Titelblad KROES
PAT STAMATÉLOS
KWELA BOEKE
Opdrag Vir Anastasía Stamatélos en Reggie Seale Ioánni en Glenda Stamatélos Níki Stamatélos Aléxis Stamatélos en Kay Heyns
Hoofstuk 1
My dadda maak my die oggend wakker. Ek lê nog warm onder die komberse, met net my bruin krulkop wat uitsteek. “Pettie,” sê hy saggies terwyl hy oor my hare streel, “Mamma is weg. Sy kom nie weer huis toe nie. Onse mamma is dood, Pettie.” Ek knik my kop en staar hom grootoog aan. Dis nes of Dadda vir my sê die oggendkoffie is koud. Daar is nie ’n vloed van trane nie, nie die besef van wat die dood nou eintlik beteken nie. Dit vat ’n lang ruk voor ek besef dat die oggendkoffie nooit weer warm sal wees nie. ’n Kind van agt aanvaar die dood gouer en makliker as grootmense. So wil dit voorkom. Dis snaaks, maar dit is so. Na my dadda my die slegte nuus vertel het, huil ek tog later ’n bietjie, maar die besef van die dood is nog nie heeltemal daar nie. My susters en broer se oë is wasig en rooi van die huil, maar hulle kyk weg as ek hulle aanstaar. Die volgende paar dae voel dit vir my ek loop in ’n dwaal. Baie dinge gebeur om my, maar ek word nooit ingesluit nie. Mense kom, praat in fluisterstemme, skud hand en gaan dan net so skielik weer. Soms kyk hulle my kant toe, skud die kop en vee oë af. Ek kry ’n bietjie skaam vir al die aandag en vlug vinnig kamer toe. Ek onthou die begrafnis. Die sand wat op die kis gestrooi word, die vroue in swart klere en big party hats. Met droë oë staar ek na die huilende mense. Ek dink: Hoekom staan en huil hulle nou oor mý mamma? Sy was mos nie hulle mamma nie. Toe ek sien hoe hulle huil, wil ek ook huil. Eintlik onthou ek die swartbedekte kniekoppe en stowwerige skoene beter as die gesigte. Die mense staan my amper toe. Ek kyk na die groot gat by my voete, en bo die gat die blink boks. Ek kyk goed daarna. Dis die eerste keer dat ek so iets sien. Die handvatsels blink. Hulle lyk asof hulle met Mamma se Brasso blinkgevryf is.
Ek weet my mamma lê in die boks en ek praat met haar. “Die handvatsels blink, Mamma. Hulle lyk net so mooi soos jou potte in die sitkamer. Mamma lê nou in die blink boks, maar wat van my? Wie gaan nou my brekfis maak, my lunchboksie inpak, my klere stryk? Ek wens Mamma kon al dié dinge sien, Mamma sou ook surprised gewees het om so baie mense hier te sien. So baie wat oor Mamma huil. Ek self het nie geweet so baie mense is lief vir Mamma nie.” Die graaf vol sand word voor my ingestoot en met ’n onseker hand vat ek ’n vuis vol, skaam-skaam. Ek kyk op en sien hoe die mense my dophou, en ek voel so ’n bietjie important. Die boks begin stadig te sak. Laer en laer die donker gat in. Ek voel skielik baie verdrietig en die trane rol. Ek strooi die bietjie sand kis se kant toe. In my gedagtes groet ek my mamma. “Die bietjie sand is vir jou, Mamma. Koebaai. Koebaai.” Maar my mamma kan my nie hoor nie, sy is regtig dood.
Die dae voor my mamma se dood onthou ek goed. Miskien glo niemand my vandag nie, maar ek het eenkeer ’n stukkie uit die Bybel vir haar gelees. Die mense in die kombuis raas en sy kan nie mooi hoor wat ek lees nie. Sy tel die koppie op wat langs die bed op die kassie staan en slinger dit deur die oop deur tot teenaan die gangmuur. Dit spat in stukkies. My oudste suster, Kay, kom kyk. “En nou, Mamma?” vra sy en lag ’n bietjie, maar onse mamma lag nie. Mamma is moeg en siek. Sy moet hospitaal toe; sy weet dit, maar sy wil nie. Sy is bang, want haar niggie Joey is kort tevore ook hospitaal toe ná ’n lang siekbed, en na net een dag in die hospitaal is sy dood. Mamma het gedink Joey moes maar liewer by die huis gebly het, dan het sy nie so jonk doodgegaan nie. Mamma se voet is seer en stukkend. Dadda praat met haar daaroor. “Die ambulance kom, Nel. Sê vir die mense by die hospitaal vannie seer voet. Hulle sal kyk daarna. Jy moenie vergiet nie, sê vir hulle.”
En nou is sy dood. Die warm koppie koffie is koud.
’n Mens se brein is ’n snaakse ding . . . Dinge wat jy dink hy sal onthou, vergeet hy dadelik, maar ander dinge bly, en jy wonder jare later daaroor. Dis dinge wat jou later laat wakker lê. Amper soos ’n tiekieboks. Jy gooi jou tiekies in terwyl jy praat en jy praat lekker en jy gee nie ’n thought vir die tiekies wat jy reeds ingegooi het nie, maar dan, ewe skielik, wil een tiekie nie deurval nie. Hy sit vas en jy weet nie hoekom nie. Jy slaan die boksie met die sagte kant van jou vuis en miskien vloek jy ook ’n bietjie, maar die tiekie bly sit. En hóm gaan jy onthou, die tiekie wat vasgesit het, maar die ander het jy lankal vergeet. So is die mens se brein. Party dinge bly vassit. So is dit die aand toe ons hospitaal toe gaan om vir Mamma te gaan kuier. Die aand voor haar dood. My dadda neem ons en ons sit ingeryg in sy second-hand kar. Kay sit voor, sy is die oudste. Agter is dit ek, Dorie en my ouboet, Stewie. Ons is stil, ons weet nie wat voorlê nie. Dadda het gesê onse mamma is baie siek. Die eerste ding wat ek sien toe ons nader aan die bed stap, is die boggel onder die deken, en ek weet Mamma het gesê. Hulle het ’n ding onder die komberse gesit sodat die komberse nie aan haar seer voet raak nie. Ons sien dit almal raak. “Sy het vir hulle gesê,” sê Dadda tevrede. “Ek is bly sy het vir hulle gesê,” sê Kay. Ek en Dorie en Stewie sê niks, maar ons kan sien sy het gesê van die seer voet. Ek kan nie onthou of Mamma iets gesê het en wat ons gesê het nie. Haar oë lê diep en donker in haar kop, swart krulle uitgesprei oor die wit kussings. Sy sit-lê teen die kussings en kyk na ons. Haar vier kinders en haar man. Ek wil haar ’n drukkie gee, maar ek is te klein en die bed is te hoog. Sy lê daar bo en ek staan hier onder. Met die gaan tel Dadda my op en ek soen haar saggies, bang ek maak haar seer. Die ander kinders groet ook. Sy lyk net moeg, soos iemand wat nou opgee. In my gedagtes sien ek haar staan in die kombuis, een voet op ’n stoel, elmboog
op die knie, sigaret tussen die vingers en tong tussen die tande. Dan dink sy diep en ver terwyl sy vir die potjie op die stoof wag om die kos klaar te kook. Nou lê sy plat en die visiting time is verby en ons is op pad huis toe.
Ons loop vinnig tot by ons kar onder die groot boom. Die ligte om die hospitaal is min en die parkeerplek donker. ’n Man lê op die naat van sy rug langs ’n motorfiets, net so ’n entjie van ons kar af. Hy lê uitgestrek, bene ver uitmekaar, die leerbaadjie toegezip en sy oë toe. Kompleet soos iemand wat op ’n kruis vasgespyker is. Hy lê doodstil. Dis aardig en ek voel bang. Dadda sluit die kar oop en ek klim eerste in. Ek is klein, maar ek weet van die skollies. Selfs in die donkerte van die boom kan mens sien dis ’n wit man. Dadda staan lank na hom en kyk, maar van ver af. In die veiligheid van die kar druk ek my neus plat teen die ruit. Die ander staan ook ’n oomblik stil om na die uitgestrekte figuur te staar. My dadda is nie seker of hy nader moet gaan nie. Miskien het die man hulp nodig, maar hy kan ook besope wees. Ons kinders moedig Dadda nie aan om nader te gaan nie, en hy draai die rug. So laat ons die man daar lê. Dadda start die kar en sit die ligte aan. Nog ’n keer kyk ons na die man wat steeds roerloos daar lê. Dadda swaai die karretjie se stert en ons is weg. Soos ’n tiekie wat bly vassit, bly die ding van daardie donker nag in my brein. Hy sit behoorlik vas. Sê nou maar die man het ’n hartaanval of so iets gehad en het net gelê en wag op ’n goeie Samaritaan om hom te help? Miskien was hy nie ’n skollie nie, nooit dronk nie. En sê nou onse dadda het gaan kyk, hom gehelp – sou die liewe Heer nie miskien onse mamma gesond gemaak het nie? Ek weet nie, maar ek dink daaraan. Die tiekie bly vassit. Ons dadda moes gaan kyk het, maar hy het nie. Die volgende oggend is Mamma dood. Die antie van langsaan troos en sê: “As die funeral eers verby is, sal dinge weer olraait kom. Die liewe gat aan, let the funeral . Life goes on, dearie, life goes on.” Wat verder by die huis gebeur het, weet ek nie, want die dag na my mamma se begrafnis het my dadda my weggegee.
Hoofstuk 2
“Jy moet vir Kay gaan help met die pakwerk, Pettie. Jy gaan na Kitty en Maggie toe. Net vir ’n visit, nè? Jy sal weer hys toe kom, ek promise.” Dis net ’n visit, sê Dadda. Ek knik my kop, dis goed so. Dis altyd lekker by Kitty en Maggie. Hulle is my mamma se niggies, maar “ ’n bietjie ouderder as Nel, and more set in their ways,” sê Dadda altyd. Waarom weet ek nie, maar ons is geleer om die twee ou anties op hul name te noem. Niks van die ge-antie vir hulle nie. Die susters bly al jare lank in die Strand. Hulle is erg oor my en ek oor hulle. Die Kleurlinge en wittes bly naby mekaar in die Strand, albei binne spoegafstand van die beach; ek sal baie kan gaan swem. Kitty en Maggie het vir die begrafnis gekom en oorgebly. Mamma is Woensdag dood, Saterdag begrawe en Sondag was my lot bepaal. Kay slaan haar arms om my en druk my vas. “Jy sal elke holiday hys toe kom, my sussie. Kitty en Maggie sal goed sorre vir jou. Jy moet soet wees.” Dit klink skielik vir my na ’n baie lang visit. Ek wil huil, maar ek sluk die trane weg. Dis asof Kay nou ook koebaai sê. Kay was nog altyd baie gaaf. Selfs toe ek destyds haar sywurm van die cardboard wat bo-op die glas was laat afval het, was sy nie kwaad nie. Sy werk al en soms bring sy vir ons lekkers en Pepsi-Cola saam. Sy druk my weer styf vas. Uit haar mou haal sy ’n sakdoek en snuit hard. Ons loop slaapkamer toe en begin my goedjies inpak. Iemand kom by die voordeur in. Ek ken die antie en sy probeer om saggies met my dadda te praat, maar ons kan haar in die kamer hoor. “Gaan die kind al vandag weg?” wil sy weet.
“Ja, vandag. Dis bieter so. ’n Kind het ’n ma nodig en sy is nog klein. Kitty en Maggie is good old girls. Hulle sal sorre virrie kind, daaroor hoef ek my nie te worrie nie.” “Ag shame, nè,” sê die buurvrou en stem dan haastig saam: “Dja, wat anners kan djulle doen?” “Niks, niks anners nie. Sy moet van die hartseer af wegkom.” Hulle praat nog, meestal oor my. Wat Dadda sê van die hartseer klink vir my snaaks. Die hartseer is mos in jou. Die memories van my mamma is in my brein, ek sal hulle saamvat, nie agterlaat nie. Maar ek sê niks. Grootmense weet van beter. So sê Dadda altyd. Ek het my klaargemaak vir ’n visit soos Dadda gesê het, maar daarna besluit Dadda-hulle ek moet liewer by die anties bly. Ek is nie gevra nie. Dadda dink dis die beste en ek neem hom nie kwalik nie, maar ek kan net nie verstaan nie. Kay werk al, maar Dorie en Stewie is nog albei op skool, ons kan mos saam-saam skool toe loop en terug, ons kan mekaar vertroos. Maar my dadda het anders besluit.
Oompie Spykers vat ons Strand toe, vir Kitty, Maggie en vir my. Hy is ’n oujongkêrel soos Kitty en Maggie oujongnooiens is, maar oompie Spykers is anders. Dadda sê oompie Spykers is queer oorlat hy nooit getrou het nie. Maar die anties is hom goedgesind en sê oom Spykers is a good old soul, altyd daar as ’n mens hom nodig het. Kitty sit voor, ek en Maggie agter, die ingepakte cardboard suitcase in die boot. Eers toe oompie Spykers die kar start, sien ek hom. Hy sit by die groot hek en sy ogies knip-knip. My hart krimp tot die grootte van ’n peanut en ek wil huil. Hy is net ’n basterbrak, maar ek is mal oor hom. Dadda was lief om vir mense te vertel van die garedraad wat Mamma om Prinsie se nek moes vasmaak, dan loop ek en Prinsie loop agter my aan, die garedraad styf in my handjie. My mense sal my nie vergeet nie, maar hy? Hy draai sy kop eenkant toe, so asof
hy wil sê: Dis nou koebaai, kry nou jou ry. Nog ’n maal kyk ek om, nog ’n maal waai ek my hand heen en weer, heen en weer. My familie staan op die sypaadjie en waai terug. My brak lig sy neus so effens asof hy nog ’n laaste reukie van sy kleinmies wil kry. Stil-stil is ons Strand toe, dis nou ek en die anties. Oompie Spykers is vrolik soos altyd, so ken ons hom. Die oom gee vet op die grootpad en hoe nader die huis, hoe vroliker word die oom. Ek kan die drank op sy asem ruik, my anties seker ook, maar wat kan ons sê? Hy begin sing en klap dan so in die ry hande. Ons hou asem op en bid dat die karretjie koers hou. “O Sanatjie, my Sanatjie, waar is djy . . .” sing die oom. Oor en oor dieselfde klaagliedjie, maar die oom het nie ’n Sanatjie nie. Oompie Spykers, soos my dadda gesê het, is queer. Hy is lief vir die jongetjies, nie vir die girls nie.
Kitty en Maggie bly in ’n klein huisie in iemand se jaart. Die mense in die huis is Slams en vra min huur vir die pondok. Daar is amper niks grond in die jaart nie. By Mamma en Dadda se huis is daar baie grond om te speel, maar hier, waar kan ek speel? Alles voel so vreemd. Die anties werk albei in Somerset-Wes. Kitty by die CNA en Maggie by die poskantoor. Hulle besluit dis beter as ek ook in Somerset skoolgaan. Ek kan die bus saam met hulle haal Somerset toe. Ek word geleer die wit mense sit op die voorste banke in die bus en die bruin mense sit heel agter. Maar party ooms en anties is opstandig en skuif dan parmantig voorlangs in. As dit ’n doubledekkerbus is, moet die bruin mense bo gaan sit. Lateraan plak hulle bordjies op wat sê Europeans Only en toe hou die ooms, anties en bus drivers op om te baklei oor wie sit waar. Maar ek weet nie wat die groot woord beteken nie en die aand vra ek Kitty daaroor. Sy lees koerant, kyk vinnig na my en sê: “Dis ’n hoge woord virrie donnerse wit mense,” en toe lees sy verder. Toe weet ek.
Maandag gaan ek saam om my skooluniform te koop. Die volgende dag is ons na my nuwe skool. In die hoof se kantoor staan ek langs die desk terwyl hy my inskryf, daarna vat die antie en meneer my na my klaskamer toe. Ek voel so skaam tussen die vreemde kinders. Amper soos ’n indringer, iemand wat anderplek hoort. Die kinders staar my aan, probeer my opsom. Ek wens ek is terug in my mamma se huis. Hoekom het jy doodgegaan, Mamma? Ek voel so eensaam.
Dae word weke. My anties is goed vir my en probeer altyd net die beste vir my koop, al moet hulle dit vir lang tye lay-by. Soms wens ek hulle wil nie altyd die beste koop nie. Soos die swart reënjas. Ek haat die ding. Hy is van warm materiaal en as hy nat word, ruik dit effens. Dis te groot om maklik op te vou. Ek beny die ander kinders hul ligte plastiekreënjasse. Op ’n dag dra ek die jas en met die loop tussen die banke slaan ek ’n paar kinders se boeke van hul tafels af. Die rye is nou en die jas wyd; ek kan dit nie in my tas druk soos die ander kinders met hul plastiekjasse maak nie. Ek voel sleg oor die boeke op die vloer. Juffrou is kwaad. “Trek uit die jas!” sê sy hard. Dis ’n ongeluk, wil ek sê, ek is jammer, wil ek sê, maar die woorde bly in my keel vassit. Ek is bang vir die juffrou en die trane brand agter my ooglede. Ek voel kwaad en opstandig. As jy nie doodgegaan het nie, Mamma, dan was ek nie nou hier in die skool met die groot jas nie. Dan het die kinders nie nou vir my gelag nie. My verwyte is verniet. Daar is geen terugdraai nie. Ek weet dit nou. My dadda het my vir altyd weggegee. Ek word inkennig en begin later hakkel. Daardie dae het die skole nog twee sessies. Vir die uur se lunchtime gaan ek na Kitty by die winkel. Die bestuurder gee nie om nie. Hy hou van Kitty en is simpatiek oor die kind wat hulle nou moet grootmaak. Sy en Maggie is nie meer jonk nie, dit moet moeilik wees.
Die maande word jare, maar die visit gaan aan. Soos ek groter word, word die verlange na my mamma al hoe sterker, maar ek sê niks vir die anties nie. Die anties praat baie, maar altyd oor die werk. Mamma se naam word nooit genoem nie. Hulle vra nie: “Hoe gaan dit by die skool, wat maak jy smiddae by die huis, wat dink jy?” nie. Hulle is albei moeg as hulle van die werk af kom, maar dis al waaroor hulle praat, werk. Tot vervelens toe. Hulle praat oor my kop en ek het niks om te sê nie. Dadda sal my onderhou, so was die belofte, maar na die tweede maand droog die geld op. Die anties kla baie daaroor, nie voor my nie, maar ek hoor hulle, die pondok is klein. Dadda is ook arm. Dis seker makliker om van ’n kind daar ver te vergeet as van dié in jou huis. Vakansies gaan ek terug huis toe, maar ook nie altyd nie. My broer en susters word soos vreemdelinge en soms voel ek soos ’n besoeker in my eie huis. Erika van oorkant die straat het nou nuwe maatjies, ons speel nie meer soos vroeër nie. Ek sien nie meer uit om huis toe te gaan nie. Die ergste is dat almal dink ek is so gelukkig. Die anties spoil my, en bly ek dan nie by die see nie? Hulle wens hulle was ek! Ek voel ek moet meer dankbaar wees. Soos met my verjaarsdae. Elke verjaarsdag is dit dieselfde. Ek kry ’n duur geskenk en my anties sing “Happy Birthday”. Dan kyk hulle my vas in die gesig om te sien hoe bly ek oor die geskenk is. “Djy wiet, Maggie het dit self uitgesoek en dit kos baie. Djy wiet sy koep nie cheap goete nie. Dis expensive. Laaik djy dit?” “Ja, ek laaik dit.” Hoe kan ’n mens nou nie van so ’n duur geskenk hou nie? Dan vra Maggie weer: “Laaik djy dit rêrig? Hy is very expensive. Djy moet mooi na djou present kyk.” “Ek sal, ek belowe.” “Hy lyk miskien nie expensive nie, maar as ek djou moet vertel hoeveel hy gekos het . . .” sê Kitty weer. Ek is dankbaar! Ek is dankbaar! Ek kan dit net nie in woorde uitdruk nie. Soms voel ek hulle moet liewer iets goedkoops koop, soos my mamma en dadda altyd
gemaak het. “Daar’s iets in die papiersak vir jou, Pettie,” sê Mamma en daarmee is dit uit en gedaan. Jy speel met jou speelding en sy weet jy is bly. Finish en klaar. Watse dankbaar ook nog! My anties werk en ek moet self sien en kom klaar. Hulle wil nie die voordeursleutel vir my gee nie. “Jy gaan dit verloor,” sê hulle, “Rachmat moet die sleutel hou en vir jou kom oopsluit.” Rachmat Ralouin is ons landlady se niggie, jonk en Slams. Sy sluit elke dag oop en maak vir my ’n broodjie; dis nou wanneer die tweede sessie by die skool end gekry het. Ek is elke dag dieselfde tyd by die huis, maar Rachmat is nooit daar as ek tuis kom nie. Ek sit eers ’n ruk op my tas en wag, besluit dan om haar te gaan soek. Haar huis is ver van ons s’n. “Is dit al só laat?” vra sy laggend as sy haar deur vir my oopmaak. Op sulke dae wil die trane rol. Ek sukkel om die veranderinge in my lewe te verwerk en met die verloop van tyd word dit erger, nie makliker nie. Honderd maal moet ek verduidelik hoekom ek by my anties bly. Hoekom bly jy dan nie by jou dadda-hulle nie? Gaan kuier jy? Stuur hy geld? Die trane het gevloei, maar net saans, in die donker. Die jaar is 1960 en Kitty lees voor uit die Argus wat sy van die werk af saamgebring het. “Verwoerd is in die gesig geskiet,” sê sy, “nogal by die showgrounds, can you imagine! Maar hulle sê hy is olraait.” “In die gesig!” roep Maggie verbaas uit. “Nei, die man se aim was te hoog. ’n Bullet in die hart sou die job gedoen het.” Hulle praat asof die dood niks is nie en ek voel skielik bang vir hulle skerp woorde. Ek sit op die harde kombuisstoel, my knieë teen my bors en my arms om my bene gevou. Van êrens diep in my snik ek saggies: “Ek wil my ma hê. Ek wens sy was nie dood nie.” Die anties is stom geskok, die koerantberig nou vergete. Hulle staar my stil maar beskuldigend aan. Hulle oë sê: Is jy nou nog nie oor jou mamma se dood nie! Ek dink baie aan die dood en ek wil ook dood wees, dan sal ek by my mamma
wees. Maar ek weet nie hoe om dood te gaan nie.
Hoofstuk 3
Dis in standerd ses dat ek en Lorrain bevriend raak. Sy is alles wat ek wil wees maar nooit kan wees nie. Sy is beeldskoon. Lang reguit hare, mooi oë en pragtige, perfekte tande. Sy is slim, vriendelik en gewild. En sy lyk wit. Hoekom Lorrain juis vir my kies om maats mee te wees, weet ek nie. In vergelyking met haar is ek lelik en inkennig. Kitty en Maggie sê die rede dat sy so lief is om by my te boer en oor te slaap is omdat haar ma die een man na die ander aanhou. Hulle trek gedurig van plek tot plek. Daar is geen standvastigheid in haar lewe nie, ook min liefde. Die aandag en stabiliteit waarna sy smag, kry sy by ons, in ons pondok. Lorrain het net een fout, miskien twee: sy het lang vingers en ag, is sy tog lief vir die kêrels! En die kêrels vir haar. Sy maak my baie dinge wys, dinge wat die anties my nie sal vertel nie. Op ’n dag word ek “grootmeisie”, soos die anties dit noem. Kitty sê ek moet nou oppas, ek kan nou bybies kry, ek moenie my voete onder ’n klong se kombers insteek nie. Lorrain kraai van die lag met die aanhoor van dié storie. “Jy is somma stupid om dit te glo! Jy moet mos eers iets doen. Ek meen, dis nie só easy nie.” Ons is albei dertien en nuuskierig. Lorrain oorreed my om Vrydagaand by haar oor te slaap. Eers is ek huiwerig, maar aan Lorrain is daar geen keer as sy eers op ’n ding besluit het nie. Tuis vra ek baie mooi of ek by Lorrain kan oorslaap. Die anties dink lank en stem toe ’n bietjie teësinnig in. Die middag is ek daar weg met my tassie, my pyjamas en tandeborsel ingepak. Dis eers na die middagbroodjie dat Lorrain my die ding mooi vertel.
“Pettie, ek het gesien hoe die mense elke aand daar anderkant die jetty op die strand games speel. Dis vroteier, aan-aan en nog ander goed. Daar is baie hoërskoolkinners. Wil jy saamgaan?” “Van wanneer af speel onse kinders daar?” wil ek weet. “Die wit mense swem dan daar.” Ek weet goed waar die bruin mense mag en nie mag swem nie. My anties het my mooi geleer, hulle weet van dié dinge. Lorrain lag weer. Sy praat nie van die bruin kinders nie, dis wit kinders. Ek is geskok. Ons speel mos nie saam met wit mense nie. Wat wil sy onder die wittes gaan soek, dis moeilikheid. Aag, sê sy, sy was al daar. And what is more, sy het ’n oulike wit outjie losgeslaan. Hy smaak haar sommer baie. Hy sê sy moet iemand saambring vir sy pel. Nou vat sy my saam. “Jy is mal,” wil ek nog teëstribbel, maar Lorrain wil nie hoor nie. Ek is nie verbaas dat die mense dink Lorrain is wit nie, maar wat van my? Ek lyk nie so wit soos sy nie. “Ons kan my ma se hair straightener gebruik, dan sal niemand iets wiet nie,” sê sy. Lorrain is vuur en vlam. Ek was my hare, sy smeer die stink goed aan. Haar mahulle weet van die gedoente in die badkamer, maar hulle lag net. Ek is bang. Ek weet nie hoe dit is om wit te wees nie. Wat praat ’n wit kind? Miskien sal hulle hoor ek is bruin, miskien kan hulle ruik ek is bruin. “Nommer een,” sê Lorrain, “jy sê niks, en nommer twee, ons spuit my ma se perfume aan. Problem solved.” Lorrain blaas my hare droog, haal dan die rollers versigtig uit en borsel my hare. Ek verkyk my aan die gesig in die spieël. My hare is reguit, soos toutjies. Binne ’n halfuur het ek wit geword.
Lorrain is so opgewonde, dit lyk of sy kan bars. Met ’n “Bye-bye, ons gaan ’n bietjie by die see loop,” is ons vort. Binne-in bewe ek. Sê nou een van my skoolmaats sien my met die toutjieshare, wat sal hulle sê? Ek is seker ek gaan iets oorkom voordat ons by die ander kant van die jetty uitkom. Lorrain is so selfversekerd soos altyd. “Hou op worrie, maak net asof jy wit is.” Maak asof ek wit is? Hoe maak ’n mens so? Ons kan die mense van ver af hoor lag en skree. Ons gaan stadig nader. Daar is baie mense. Hulle lyk almal na groot kinders. Stadig staan ons nog ’n bietjie nader. Ek en Lorrain is nie klein vir ons ouderdom nie. Lorrain dra al bra, en ek is lank. Die straatligte skyn helder op die mense waar hulle met kaal voete diep in die sagte wit sand staan. Aan albei kante is duine en voor ons lê die see, stil, kalm en donker. Ek voel hoe Lorrain so ’n bietjie teen my druk, sy is ook nie meer so seker nie. Ons sien hom tegelyk. Hy kom val-val tussen die mense deur aangehardloop. “Lorrain! Lorrain!” roep hy van ver af. Laggend kom hy op ons afgepyl. “Dis hy,” sis Lorrain in my oor en stamp my met haar elmboog in die ribbes. “Hallo, Peet,” groet Lorrain op haar mooiste. Dan sis sy weer in my oor: “Praat nou soos ’n wit mens!” “Ek is bly jy het gekom. Is dit jou vriendin?” “Ja, Peet, dis Patricia.” “Hallo, Patricia,” sê hy en vat my hand. “Kom, ek stel jou voor aan ou Kraut.” Hy vat Lorrain aan die hand en ek is agterna. Hy soek tussen die kinders en kry uiteindelik vir Kraut. “Hier is die meisies. Jy ken mos vir Lorrain. Dis haar vriendin Patricia,” sê Peet en draai dan my kant toe. “Kraut se ouers is Duits, en sy naam is nie regtig Kraut nie.” “Ag toe nou,” protesteer die ander ou. Hy staan op, skud so ’n bietjie die sand af
en groet my baie beleef met die hand. Ek bewe. Hy bekyk my van nader. Hy weet ek is bruin! skree dit binne my, hy kan dit sien! Maar die ou met die blonde kuif en blou oë glimlag mooi en vriendelik. Hy vat weer my hand, trek my saam oor die sand. Ek kan nie sy hand vasvat nie, sê nou iemand sien my? Ek voel benoud, maar die wit mens hou my hand net stywer vas en ons gaan staan langs mekaar in die kring. Nie lank nie en ons hardloop saam, lag saam en die wit mens bly aan my sy, maar ek bly bang. Selfbewus soek ek na ander gesigte wat bruin lyk in die mengelmoes van kinders. Ja, dink ek, dié een lyk ’n bietjie bruin, daai ou se hare is ’n bietjie kroeserig, die een oorkant lyk ook . . . Ek begin ’n bietjie ontspan. Nee, besluit ek, ek steek nie af nie. Ons speel lank so saam. Een word geblinddoek en moet ons vang. Ons spat uitmekaar. Kraut vat my hand en sleep my saam, oor die duine. Ons hardloop moeilik deur die los sand. Ek val ’n slag en Kraut trek my op. Tussen ’n paar polletjies gras val ons neer. Hy lê op sy rug, ek sit langs hom en hy lag met my. My oë bly vasgenael op sy mooi gesig. Hy is pragtig, en hy lag met my, Pattie Peters. Hy trek my skielik af na hom toe. Ek probeer nog skerm, maar hy rol my om op my rug. Ek voel hoe sy lyf teen myne druk. Sy blonde hare val oor my gesig, kielie my neus. “Is jy bang?” terg hy laggend. “Nee, vir wat?” vra ek bekkig. “Hou my dan vas.” My hart klop in my keel. Hy vat my hande en sit een aan elke kant van sy gesig. Ek is bang hy kan ruik ek is bruin en sit my hande op sy hare. Dit voel sag en glad. Sy bene klem myne vas. Ver weg hoor ek die kinders lag en skree. Langs ons spoel die branders saggies uit op die sand. Die lippe wat oor myne vryf, is sag en warm. Is dit waarvan Lorrain gepraat het? Is dit hoe ’n mens ’n bybie maak? Ek voel bang en stoot hom aan die skouers weg.
“En nou?” vra hy effens verbaas. “Ek moet loop,” sê ek vinnig en staan op, maar hy gryp my hand. “Bly nog ’n rukkie, toe, dis mos lekker hier.” Nee, ek het besluit ek wil loop. “Pettie! Pettie!” hoor ek Lorrain roep. “Ag, nie nou nie,” sê Kraut effens vies. Hy sit regop en vee die sand uit sy hare. “Hier is ons!” roep hy.
“En toe, hoe was dit? Wat het julle gedoen?” wil Lorrain later weet. Ons hardloop arm om die nek huis toe. Dis al laat, haar ma sal wonder wat van ons geword het. Die seuns wou saam huis toe loop, maar ons wou niks weet nie en het vir hulle weggehardloop. Ek vertel haar dat Kraut my vasgedruk het, gesoen het. “Is dit al?” lag sy. “Wat het julle miskien gedoen?” wil ek weet. “Nee, niks,” sê sy. “Peet is baie decent, weet jy. Hy gaan volgende jaar university toe, hy gaan leer vir dokter. Hoe lyk ek vir jou as mevrou dokter, hè?” “Jy’s mal. Hy sal nie met jou trou nie.” “Komaan, Pettie, jy moenie snaaks wees nie. Jy weet, Peet laaik my baie. Hy wil my net na sy huis toe vat. Hy dink ek is sestien!” Sy skater soos sy lag. “Die Strand is ’n klein plekkie. Netnou sê iemand vir die polisie en dan is daar groot moeilikheid,” waarsku ek, maar Lorrain wil niks weet nie.
Kitty en Maggie is vies oor die reguit hare. “Djou krulhare was pragtig, en kyk hoe lyk djy nou!” sê Maggie kwaai. Ek maak die hare in ’n kort poniestert vas, maar alleen in my kamer maak ek dit los as ek voor die spieël sit. Dan maak ek asof ek wit is en ek praat saggies met Kraut. Maar ek gaan nooit weer saam met Lorrain na die ander kant van die jetty nie. Lorrain gaan nog elke aand. Dis somer en skoolvakansie en haar ma laat haar gaan. Sy het ’n wit kêrel losgeslaan en kan nie uitgepraat raak oor Peet nie. Maar na minder as twee weke loop die ding skielik dood en dit gebeur op ’n lelike manier. Dis ’n paar dae voor Krismis toe Lorrain se ma besluit dis weer sulke tyd: hulle moet trek. Haar skuldeisers soek seker weer haar bloed, sê die anties alwetend, of dis weer ’n man wat haar ’n hard time gee. Hoe dit ook al sy, Pearl Cupido wil trek. Sy vra oom Spykers om te help. Sy karretjie word so hoog gelaai, dit lyk soos die toring van Babel. Pearl Cupido sit voor met Keffie, die kleinboetie, op haar skoot. Agter sit Dakkie, Lorrain se ouer broer, ek en Lorrain. Ek wil ook die nuwe huis sien. Dis laatmiddag en oompie Spykers is hoog in die takke. Oompie en sy karretjie slinger so sing-sing, klap-klap deur die verkeer met ’n stoel of tafel wat kort-kort dreig om af te val. Die boot staan oop en is propvol potte wat aan die buitekant vasgemaak is. Hulle klieng-klieng teen mekaar soos oompie vet gee of rem trap. Ons klink soos Wilkie se sirkus op vier wiele. ’n Motor draai skielik voor ons in en oom Spykers moet vinnig rem. Keffie vlieg vorentoe en stamp sy kop teen die voorruit. Ons drie agter wip omtrent oor die voorste sitplekke. “Djou donnerse hel, kyk djy nie wa djy ry nie!” skree oompie. Die woorde is skaars uit sy mond, toe vlieg Keffie vir die tweede keer van sy ma se skoot af. Die motor agter ons het te na aan ons gery en kon nie betyds rem nie. Die slag is oorverdowend en ons hoor hoe rol die kastrolle oor die pad. Ander karre moet uitswaai, mense druk hul toeters hard. Stoele val af, komberse lê oor die pad. Keffie skree nou éérs; hoor en sien vergaan.
“Djou blerrie donner!” vloek oompie weer. “Klim uit!” skree Pearl Cupido, “die mense sal my goete steel!” en met dié stamp sy omtrent vir oompie by die deur uit. Die rollers in haar hare het losgekom en ’n paar hang nou slap langs haar kop. Ons drie val soos vrot velle uit die kar, gereed om te red wat daar te redde is. “Ma! Die helse man het ons lamp gebriek, Ma!” kerm Lorrain. Sy wil nog meer sê, maar toe sien sy die bestuurder van die kar wat ons van agter gestamp het. Soos ek vir Lorrain gesê het: die Strand is ’n klein plekkie. Die kans dat jy nie alle bekendes op een dag sal raakloop nie, is klein. Pearl Cupido is briesend. “My lamp! In sy donner in! Maar hoe ry djy dan? Op die kar se gat! Kyk djy nie wa djy ry nie?” Met elke verwyt raak haar stem ’n noot hoër. Mense staan nader om te sien wat aangaan. Die jong man staar ons aan. Oopmond. Sprakeloos. Oompie hou aan om te vra: “Kyk hoe lyk my lights, en wie gaan betaal? Gaan die kleinbaas betaal? Ek is arm. Mrs Cupido se lamp is gabriek. En wie gaan betaal? Gaan die kleinbaas betaal?” Oompie se verflenterde blou keppie sit skeef op sy kop en sy lang kakebeen bewe. Die keppie word afgehaal en daar word ’n bietjie deur die swartgrys kroesies gekrap. Sy oorpak het meer gate as materiaal en dan vind sy vingers ’n gat en krap hy voort, diep ingedagte terwyl hy die damage aanskou. “Dis nie my skuld nie,” meen oompie. “Die kleinbaas moes die distance gehou het. Wie gaan nou betaal?” “In sy donner in,” sê Pearl van haar lamp. “In sy donner in, en dit was ’n present van my ma. Nou in sy donner in.” “Ma,” fluister Lorrain saggies, “moenie so hard praat nie.” Die jong man staan nog asof hy versteen is. Hy kyk van oompie, wat kners op sy enigste twee ondertande, na die vloekende vrou met die rollers in die hare. Na Keffie wat aan sy ma klou en nou eers mooi op dreef is met die geskree. Na Dakkie met die T-hemp wat op sy knieë hang en ’n mus wat tot oor sy ore getrek is, sigaretstompie onder die mus ingesteek, en na my met die piepot in die een
hand en die kombers in die ander en dan . . . na Lorrain. Lorrain met die vuil kaalvoete, die ou rokkie, die hare wat in ’n poniestert langs haar kop vasgemaak is met ou broek-elastic en die oë vol trane. Lorrain draai haar kop weg. Die vernedering is te groot. Sy klim in die kar en druk haar gesig op haar knieë. “Ek is jammer. Baie jammer. Soos jy sê, ek het nie my distance gehou nie. My pa sal betaal,” kom die jong man tot verhaal. Oompie kyk hom geskok aan. “Maar wanneer, meneer? Ek mien, wanneer? Meneer kan sien Mrs Pearl is baie upset orie lamp. Ek kan nie so ry met stukkende lights nie. Hulle moet gefix word. Meneer verstaan wat ek wil sê . . .” Meneer verstaan. Peet steek sy hand diep in sy sak. Hy haal ’n paar rand uit sy beursie. Dis ’n goeie paar rand. Hy tel die note. “Ek hoop dis genoeg; die skade is tog nie so groot nie. My pa is weg op besigheid en hy kom eers oor twee dae terug. As jy dink dis te min om die skade te dek dan moet jy liewer wag tot my pa . . .” Ek sien oompie tel die note so met die oog. Hy maak kamma keel skoon. “Soos meneer sê, die damage is nie te groot nie. ’n Bietjie virrie lamp, ’n bietjie virrie lights. Ek wiet nou nie . . .” Oompie aarsel soos iemand wat op die punt staan om ’n groot besigheidstransaksie te beklink. Dan word die skroewe aangedraai: “Wat sal meneer se pa sê as hy wiet die meneer bestuur so . . . Miskien is dit nie genoeg nie. Ek wiet nou nie . . .” Peet lyk effens ergerlik, maar hy is die ene selfbeheersing en bly stil. Hy haal nog note uit sy beursie en sit dit in oompie se hand. Oompie voel-voel die note, amper asof hy wil seker maak dis regte geld. Alles is nou opgetel en weer vasgemaak. Pearl Cupido staan nader vir haar deel van die geld. “Gee djy net die geld hierso! Die lamp is expensive!” skree sy en gryp die geld uit oompie se hand.
“Wag nou, Pearlie, djy moenie my geld kom staan en gryp nie,” maak oompie ’n bietjie verleë beswaar. “Djou geld?” vra antie Pearl verontwaardig. “Djou dronk vark!” Skielik flits ’n blou lig. “Speedcop!” skree iemand en almal spat uitmekaar. Oompie spring soos blits in die kar en daar trek ons; antie Pearl klap die deur so in die ry toe. Die verkeerskonstabel skree iets en wys met die vinger, maar oompie sit voet in die hoek. Lorrain het lank gevat om oor die ding te kom en het haar “vieslike ma” en die “vieslike oom Spykers” geblameer, maar ons het geweet die einde moes kom. Dit is die wet. Dit kon nie anders nie. Maar ná die ding met Peet het Lorrain gevoel dat as sy goed genoeg is vir een wit man, is sy goed genoeg vir ’n ander.
Kitty en Maggie het Lorrain se ma geblameer vir Lorrain se foute. Soos haar hande wat nie mense se goed kon uitlos nie. Soos met die 25c. Rachmat het groente gekoop vir die anties en die 25c is die kleingeld. Sy sit dit op die dresser in die kombuis. Dieselfde dag kom Lorrain en ’n maat na my toe. Ons speel Monopoly. Rachmat kom inloer om te groet en te sê van die kleingeld op die dresser. Ons loop kombuis toe en sy voel oor die dresser se blad. “En nou?” vra sy. “Waar is die change nou?” Ons soek ’n bietjie, maar die geld is weg. Lorrain besluit dis tyd om huis toe te gaan. Sy groet so in die loop. Ek en Elaine, die ander maat, kyk na mekaar. Ons weet van haar stelery; Elaine het ook al deurgeloop. “Ek loop nou,” sê Rachmat. “Sê die anties van die change. Dis nie my skuld nie, sê vir hulle daardie meid se ma moet haar ’n slag goed slaan. Koebaai.” Met dié dat Rachmat net na Lorrain loop, kry sy haar verder aan in die straat. Sy loop agter Lorrain en sien hoe Lorrain geld in haar hand vashou. Dit hoor ons lank daarna.
Die aand is Kitty en Maggie baie ergerlik oor die verlore geld. Dis ons volgende dag se broodgeld. Later kom Rachmat vir mevrou Abrahams in die groot huis kuier. Kitty en Maggie loop die paar tree na mevrou Abrahams se agterdeur. Hulle wil die storie weer hoor en vra vir die soveelste keer of Rachmat seker is sy het die geld op die dresser gesit. Dis toe dat mevrou Abrahams haar vererg. “Wie de hel dink djulle is djulle miskien? Sê djy onse Rachie het die geld gasteel? Sy doen djulle vuilwerk en kyk na die kind. Dink djulle miskien djulle is wit?” “Nee, wag nou,” keer die anties, “ons sê nie Rachmat het die geld gesteel nie. Ons vra net.” “Maar vir wat vra djy! Oor en oor en oor!” Mevrou is nou goed kwaad. “Ek is nou siek en sat virrie storie! Vat djulle goeters en loep, ek is nou gatvol vir djulle. Die rent wat djulle betaal, is boggerol. Voertsek nou uit my hys!” Mevrou vat haar handsak en haal haar beursie uit. Kitty en Maggie wil nog mooipraat, maar dis neusie verby. Mevrou haal 25c uit haar beursie en gooi dit op die tafel. “Vat die geld,” skree sy, “kyk of dit djulle ryk maak. Djulle sal djulle gat sien voorlat djulle weer so ’n cheap plek kry.” Daar is geen keer aan haar nie. “Mevrou,” praat Maggie mooi en sag, sy probeer verskoning maak vir mevrou se vloekery, “ek dink miskien is dit die bottel wat nou praat . . .” Maar toe is mevrou eers kwaad. Sy was lief om dop te steek as sy die kleinhuisie besoek, maar niemand is veronderstel om daarvan te weet nie. Rachmat probeer ook mooipraat en keer, maar in ’n ommesientjie het mevrou al ons losgoed oor die muur gegooi. Die bure kom kyk wat aangaan. Mevrou druk ’n paar mans geld in die hand en binne ’n japtrap is al ons meubels uitgedra. Nog meer mense kom aangeloop om te kyk wat aangaan. Party help optel en ander skree beledigings vir mevrou. “Dis ’n blerrie skande. Hulle is ou mense en het ’n jong kind om voor te sorre . . .”
“Blerrie bloodsuckers!” skree mevrou Abrahams terug terwyl sy Maggie se skoene oor die straat slinger. Dis agtuur die aand en daar sit ons. Op die sypaadjie, op koffers en stoele. Uitgesmyt. Die buurmense is simpatiek, maar hulle het nie plek vir nog drie mense nie. Die meeste van hulle slaap vier of meer in ’n kamertjie. Maar hulp het gekom. Van oompie Spykers. Ons sien hoe oompie om die draai kom in sy karretjie; hy is net betyds om te sien hoe die skoene oor die pad geslinger word. Oompie val amper uit die kar, hy is so kwaad. Maar vir eens in sy lewe is hy nugter. Hy vloek nie en raas nie, laai net op. “Ek weet waar djulle kan bly,” sê hy. “Ek neem djulle na Vetkoek toe. Sy sal plek maak vir djulle. Dié mense kan in hulle hel gaan.” Vetkoek is ’n ou kennis van oompie. “Nou nie vrinne nie, verstaan,” sê oompie, “ma ons ken mekaar goed.” Vetkoek is nie oorstelp van vreugde om ons te sien nie, maar sy maak darem plek vir ons. Haar pakkamer word leeggemaak en ons trek in. Die aand laat gesels die anties en Vetkoek om die kombuistafel. Haar kombuistafel, ons sit in haar huis. “Lat ek vir djulle ’n ding vertel,” begin sy. “Pearl Cupido was hier net voor djulle hier aangekom het. Is sy kwaad! Sy sê dat djulle haar dogter glo van diefstal accuse. Djulle weet hoe sy te kere kan gaan. Sy gaan djulle glo regsien. Nou verstaan ek die storie nie mooi nie: wie het nou eintlik die geld gevat?” Nou is ons seker Lorrain het die geld gevat, want niemand het haar beskuldig nie. Dis haar gewete wat haar pla, toe gaan kla sy sommer by haar ma. Ou Vetkoek lag lekker oor die hele petalje. Haar wange en maagrolle skud soos sy lag. “Kyk nou so ’n meid! Ek het altyd gesê daai kind is te mooi. Ek weet van ander dat sy altyd geld het. Koop dit, koop dat; sy sal nog hard op haar gat val.” Ons kan weer na mevrou Abrahams gaan met die storie, maar dit sal nie help nie. Sy wil van ons ontslae wees; haar dogter soek blyplek. Maar waarheen nou? Ek lê in die hoekie agter stoel en tafel en luister hoe Kitty en Maggie praat.
Hulle kan miskien verblyf in South End kry, maar wat van Pettie? Wie gaan vir haar sorg as sy van die skool af kom? Miskien kan ek terug na my pa toe, dink ek slaperig. Ek vra hulle die volgende oggend, maar hulle sê die plan sal nie werk nie. Dinge het verander by my huis; hulle het net gister ’n brief van Dadda gekry. Hy gaan weer trou. En die huis verkoop. Kay werk en Stewie is ook al groot, dis net Dorie wat nog skoolgaan. Die nuwe vrou wil nie in die ou vrou se huis bly nie. Sy is ’n weduwee, dieselfde ouderdom as my dadda. “Nei, bly djy maar hier, ons sal ’n plan maak.”
Hoofstuk 4
Na die geldvoorval het ek Lorrain weer gesien, maar net op straat of in die kerk. Sy het nooit weer kom kuier nie. Miskien het sy probeer vergoed vir wat sy ons aangedoen het, ek weet nie, maar dis deur haar dat ons later ’n blyplek gekry het. Dis somer en die Big Wheel, soos ons dit genoem het, het dorp toe gekom. Daar is sommer baie lekker rygoed en candyfloss en cool drinks en speletjies, ’n hele gedoente, by Toby’s Carnival. Lorrain kry my die Vrydag in die straat en sê ek moet haar die aand by die Big Wheel ontmoet, sy het iets om my te vertel. Sewe-uur die aand verkyk ek my aan die wiel wat om en om draai met sy honderde liggies wat aan en af flits en kinders wat gil en lag. Ek staan so ’n bietjie op ’n afstand en wag. Ek sien Lorrain sit op die Big Wheel en langs haar ’n jong man. Ek herken die man dadelik. Dis die ou Jood Israel se jongste seun, Nathan. Hy is nie net die jongste nie, maar die laatlammetjie in ’n kroos van vier. Hy en sy ouer broer verskil twaalf jaar. Ek het al gehoor hoe die mense praat: Die klong is al tussen die bruin mense, hy gee sy ouers baie grys hare, hy wil nie leer nie, wil nie werk nie. So staan ek hulle en dophou terwyl die groot wiel om en om gaan. Dit hou stil en Lorrain en Nathan klim af. “Jy het toe gekom,” sê Lorrain en druk al laggend teen Nathan vas. Ek voel ’n bietjie skaam en verleë voor Nathan. Dit voel vir my almal kyk ons aan. Lorrain praat voort: “Pettie, jy ken mos vir Nathan hierso, nè? Nou ja, sy pa is die eienaar van ’n klomp hyse by South End, daar naby Groenbos se area. Hulle het al lank gelede vir die bruin mense daar begin hyse bou. Hy kan miskien daar vir julle ’n plekkie kry.” Nathan sê niks, druk Lorrain net styf teen hom vas. Lorrain lag en vermaan hom kamstig om hom te gedra. “Kitty en Maggie moet na die office gaan in die Main Road, hulle moet gaan
apply. Hulle moet net sê Nathan het hulle gestuur. Iemand trek die einde van die maand uit.” Nathan vroetel in sy baadjiesak, bring ’n stuk papier te voorskyn. Dis die application form, sê hy, julle moet dit invul. “Dankie,” sê ek vinnig, bly om weg te kom van haar en Nathan. Ek maak aanstaltes om te loop. “Moenie gaan nie, man,” sê Lorrain. “Dis lekker hier.” “Dié plek is net vir wit mense,” sê ek en draai om en loop weg. Dis die laaste keer dat ek en Lorrain met mekaar gesels het. Terug in ons pakkamer die aand lê ek lank en dink aan haar. Aan al die lekker dinge wat ons twee saam gedoen het. Al die kere toe ons cowboys en crooks gespeel het. Die lekker bome wat ons geklim het, die dik briewe wat ek in die hospitaal van haar gekry het toe ek in was vir ’n ooroperasie. Met skaamte het ek die dae onthou toe ek kortaf met haar was terwyl sy altyd net vriendelik was. Sy wou net liefde en vriendskap van my hê.
Na Lorrain het daar ander vriende gekom. Nie sulke lekker vriende nie, maar tog maats saam met wie ek my kon uitleef. Een so ’n maat was Haydee en haar groep vriende. Ek sluit by hulle aan op veertien. Die dinge wat ons plesier verskaf het, kon soms as gewaag beskou word. Soos die afbrand van ou Israel Friedman se plek. Nie ons skuld nie, maar nogtans. Na Lorrain my gesê het van die huis in South End, gaan Maggie na die kantoor en doen aansoek. ’n Week later trek ons in. Die vorige mense was morsig en die plek is vuil en die kamers klein. Al die ligte se switches sit in die gangetjie net langs die voordeur. Kitty bekyk hulle so en sê: “My Lord! Dis nou ’n hotnothys wattie wit mense hier gebou het.” Die draad rondom die huis is platgetrap en langsaan staan ’n groot ou gebou. Dis Israel Friedman – Lorrain se kêrel se pa – se tweedehandse winkel. Die plek is
twee verdiepings hoog en stink behoorlik van al die ou goed. ’n Tweedehandse bed is sommer spotgoedkoop en die meeste bruin mense se kombuistafels kom uit die ou se plek. Aan elke kant van die gebou is daar ’n laantjie en voor die gebou hoë pilare. Die gebou word saans met ysterhekke gesluit; bedags staan ou Friedman voor die deur, hande agter die rug, sigaar in die mond, hoed effens skeef op die kaal kop en om sy nek ’n fancy bow tie. Oor naweke is Friedman se winkel ’n lekker speelplek en wegkruipplek vir ons kinders. Dit het baie hoekies en draaitjies en pilare en gangetjies en buitetrappies. Ten spyte van die hoë ysterhekke voor, kan ’n mens maklik langs die gebou inkom waar die draad ’n bietjie platgetrap is. Dis ’n Saterdagmiddag. Haydee se ouers rook albei en sy kry ’n halwe pakkie sigarette in die hande. Nou het ons die rookgoed, maar waar gaan ons aansteek? Agter Friedman se plek, besluit ons. Van agter is ons weggesteek deur ’n hoë muur. Ons voel-voel aan elke deurknop. Een deur gaan oop en ons staan skielik in ’n klein kamertjie met ’n klomp rommel, niks van waarde nie. Meesal lappe en toue, seker wat hulle gebruik om die meubels mee vas te maak. Ons is almal binne en die laaste een maak die deur saggies toe. ’n Klein bietjie lig kom deur ’n piepklein vuil venstertjie. Spinnerakke hang van die plafon af. Ons kan nie verder die gebou in nie, maar die kamertjie is goed genoeg vir ons rookplanne. “Sies, die blerrie plek stink,” sê Haydee. “Ek sit op die stoel!” roep Gertie uit, bly om op die enigste stoel te kan sit. Die stoel is linnelam en die binnegoed peul uit. Ons ander drie trek kratte en bokse nader om op te sit. Ons is gereed. Die sigarette word uitgedeel, eers net een vir elkeen. Haydee steek eerste aan, toe ek, toe Gertie en Dyna. Ons trek nie diep in nie. Die rook word so ’n bietjie in die mond gehou om te wys ons is nie heeltemal onnosel nie, en dan in ’n lang dun straaltjie uitgeblaas. Ons probeer so ongeërg as moontlik lyk. Ek kyk onderlangs met groot oë na Haydee. Na die manier waarop sy die sigaret vashou. Die hand word ook in die praat so ’n bietjie rondgeswaai asof sy nie eens bewus is van die brandende ding tussen haar vingers nie. So asof sy
gewoond is aan rook. Ons probeer haar almal naboots en probeer ons bes om so casual as moontlik te lyk. Maar die rook brand my oë en ek voel ’n bietjie duiselig. Ons praat kopstukke. Oor outjies, natuurlik. Ek het nie ’n kêrel nie, maar die ander het óf een, óf het een in die oog. Ek luister grootoog en wonder hoe dit moontlik is om so maklik ’n kêrel te kry. “Luister,” sê Haydee, “Maandag kom ons almal by my huis bymekaar en dan gaan ons Kerkstraat toe. Djulle moet sien die appelkose aan daai wit dominee se boem! Jislaaik, hulle hang somma so! Ek gaan try om vir Miekie en Tiger saam te bring.” Triomfantlik voeg sy by: “Hoe’s daai!” “Jislaaik,” sê ons almal. “Fantasties.” Hulle is bak ouens. Ek maak of ek ook kamma bly is, maar ek weet seuns laat my skaam kry. Die ander lyk altyd so selfversekerd; hulle sê net die regte ding op die regte tyd, so voel ek. In seuns se geselskap sukkel ek om net ’n ja of nee uit te hakkel. So sit ons en planne smee. Die een sigaret is klaar en ’n tweede word aangesteek. “Djulle is soos bybies wat aan niks gewoond is nie,” lag Haydee ons uit. “Djulle roek almal so mettie langbek!” “Nee,” sê ek, “een is genoeg. My anties sal dit ruik. Hulle sal my doodslaan as hulle weet ek rook. Ek voel ook nie meer so lekker nie.” Dyna en Gertie vat elk nog een, maar ek sien hulle trek net effens in en maak paf-paf-geluidjies. Hulle lyk vir my albei groen om die kiewe. Ek begin al kriewelrig word. Ons is al ’n hele rukkie in die kamertjie. Die son trek water en binne die kamertjie word dit goed donker. “Haai, dis al donker,” sê Gertie skielik ’n bietjie verskrik. “Miskien kan iemand van buite die sigaretvuurtjies sien.” “Nei, man, daar’s dan ’n muur agter.” “Ma ek sien dan iets,” hou Gertie vol.
Ons draai ons koppe soos een man venster se kant toe. Haydee besluit sy is klaar met haar smokie en druk haastig haar stompie dood. Ons oë is vasgenael op die venstertjie. ’n Skaduwee val oor die vuil ruit. Dyna gryp my aan die arm. “Daar’s iemand,” fluister sy bang. Toe hoor ons dit. ’n Baie sagte geklop-klop aan die deur. My keel trek toe en my nekhare rys. Die ander sit net so versteen. Niemand praat nie. Weer die sagte geklop-klop. Haydee kom tot verhaal. “Staan stadig op, loop agter my aan. Ek gaat die deur oopruk en dan hol ons. Moenie omkyk nie, run for your life.” Haar stem bewe ’n bietjie en haar oë is groot. Van die stadig opstaan het niks gekom nie. Ons spring gelyk op en bestorm die deur, Haydee voor. Sy ruk die deur so vinnig oop, party van ons word omtrent raakgeslaan soos al vier tegelyk probeer wegkom. Buite nael ons asof al die Kaapse skollies op ons hakke is. Ons bly hardloop tot ons by Gertie se huis aankom. Ons gaan sit op ons hurke agter die heining, te bang om asem te haal. Haydee en Dyna bly naby, maar ek moet weer in die rigting van Friedman se gebou gaan, my huis is dan net langsaan. Ek is goed bang. Dit vat ’n paar minute om moed bymekaar te skraap, maar uiteindelik loop ek huis se kant toe. Wat sal die anties sê as hulle weet? Die aand raak ek nie gou aan die slaap nie. Dis asof ek weer die geklop aan die deur hoor en ek wonder hoekom die skollies dan nie die deur oopgemaak het nie. Kitty en Maggie sê altyd die skollies is groot menere met groot messe, maar net solank daar ’n klomp bymekaar is. Op hul eie is hulle niks werd nie. So bly my gedagtes maal en ek voel soos iemand op die randjie van ’n disaster. Toe ruk iemand aan my. “Staan op, Pettie, djy gaan doodbrand!” Dis Kitty se stem. Al die ligte in die huis is aan en ek hoor stemme wat ek nie ken nie.
“Komaan! Djulle vrek hier vanaand! Vat die komberse. Hierso djy, gryp die stoele en dra hulle ver weg.” Dis ’n jong man en hy bulder bevele aan ander jongetjies terwyl hy goed aangee. Die huis is in rep en roer. In die verte kan ek sirenes hoor. Ek is op my voete, trek my kamerjas aan. Sonder dat iemand iets sê, rol ek my beddegoed op, gryp my rokke, steek my voete in my skoolskoene en hardloop by die deur uit. Buite staan mense, nog meer kom aangehardloop. Ek kyk en ek sidder. Friedman se ou plek is die ene vlamme. Dit knetter en kraak en rook borrel orals uit. Die brandweerlorrie hou stil en mans spring uit en begin hier gryp en daar vat. Die vlamme lek-lek aan ons dak. Water word oopgedraai. Die een man hou ’n tuinslang op ons dak gerig. Wat van ons mat? dink ek. Wat van my matras? Alles gaan nat word. Die manne wil voor by die gebou in, maar dis moeilik. Die ystertralies is sterk en die byl help nie. Hulle sukkel; die vuur is groot en die plek is warm. Ek kyk na die mense om my. Die meeste met oophangmonde en vingers wat wys. Party in pyjamas, kaalvoet, deur die slaap, maar almal is daar. Haydee kom aangehardloop. “Het djy djou sigaret doodgemaak?” is die eerste ding wat sy vra. Ek skrik. Onthou dan ek het nie ’n tweede een gerook nie. “Miskien is dit die skollies wat aan die deur geklop het,” fluister ek terug. Haydee knik. “Dja, dis die skollies. Dis nie ons skuld nie.” Mans dra nog meubels buitentoe en sit dit oorkant die straat neer. Kitty se resepteboek word saam met my skoene in die piepot gedra. Potte en panne is in ’n gordyn toegedraai. Die Bybel en ander boeke staan regop in die naaldwerkmandjie. Die brandweermanne spuit en spuit. Toe die gespuit klaar is, staan ons huisie nog, net een muur en die dak is lelik geskroei. Van ou Friedman se gebou het min oorgebly. Net die groot pilare staan nog, kompleet soos soldaatjies wat weier om om te val. Van die inhoud het niks oorgebly nie.
“My blerrie sideboard!” skree ’n antie langs my wat laat op die toneel afkom. “Ag nee, het djy ’n sideboard da binne?” wil ’n ander antie weet. “Ek het hom twee weke terug gelay-by. Tien donnerse rand, in sy moer in!” Die mense is simpatiek. Tien donnerse rand is baie geld. Sy was daardie aand seker nie die enigste een wat meubels verloor het nie; die ander was seker te skaam of hartseer om te erken dat hulle ook goed en geld verloor het. “Djy moet djou geld gaan terug demand,” word die antie aangemoedig. Ander sê die ding het gekom oor Friedman se slegte seun. Ek bekyk ons meubels. Stoele bo-op die tafel, komberse bo-op die stoele en klere wat uit oorvol koffers peul. Die matrasse lê op die vuil sypaadjie. Ek sien die sideboard en kas is nie uitgedra nie. Hulle is geweeg en te swaar gevind. Die mense het alles goed bekyk en toe hulle klaar gekyk het, is Kitty en Maggie se ou Hollandse Bybel weg, asook ons enigste skêr en selfs ’n paar boeke en ’n laken. Later het die storie die rondte gedoen dat ou Friedman self die brand gestig het om die assuransie te kry. Of die ou toe ooit iets uitbetaal is, weet ek nie, maar almal was spyt oor die brand. Waar sou die mense nou hul tweedehandse potte en tafels koop? Die vuur het my groot laat skrik en ek het van toe af weggebly van rookgoed, die ander drie ook. Ons het nie weer gepraat oor die brand nie. Dit kon net sowel ons gewees het wat die plek laat afbrand het.
Hoofstuk 5
Dis ’n helder somersdag. Eerwaarde Bantjies kom by die winkel aan waar Kitty werk. Hy tref haar in die stoorkamertjie aan. “Die baas het gesê iemand wil my sien, maar haai, ek het geskrik toe ek die eerwaarde sien. Daar staat hy, in sy swart pak nogal, en hy lyk so serious. Ek dink toe: iemand is dood en hy bring nou die tyding.” So vertel Kitty die aand aan tafel. Ek en Maggie knik kop, ons luister aandagtig. Maar die eerwaarde bring nie nuus van die dood nie, maar amper iets net so ernstig. Hy moes vir familie in Faure gaan kuier en dis toe op sy pad terug dat hy die kind sien. Hy sien sy het ’n skoolrok aan, maar dis in skooltyd. Sy is opgeskote en dra haar tas. Hy trek van die pad af, wuif vir haar sy moet nader kom. Hy het darem gemeen die kind sal nie vir hom bang wees nie, sy kan mos aan die swart pak en wit das sien hy is ’n man van die kerk. “Waar gaan jy dan heen, kindjie? Dis mos lankal skooltyd,” vra hy vriendelik. Die trane loop oor haar wange. Nee, sy gaan nie hier skool nie, bly ook nie hier nie. Sy is op pad Somerset-Wes toe, na die winkel waar haar antie werk. Hy laai haar op, hy gaan mos soontoe. In die kar praat hy met die kind, hy kan mos sien dinge is nie pluis nie, die kind lyk dan so aangedaan. So praat hy met Kitty daar in die stoorkamertjie. Die kind sê haar naam is Dorie Peters en mevrou is haar antie. Haar huis is in Goodwood, sy het weggeloop. Sy sê haar sussie bly by julle. Kitty het hom verseker dis reg so, maar sy het haar oor ’n mik geskrik. Wat sou Dorie besiel het om weg te loop? Hulle kan nie nog ’n kind vat nie, hulle kan dit nie afford nie.
Die eerwaarde sê Dorie is by sy huis, sy vrou kyk na haar. Kitty vra toestemming by die baas en die eerwaarde vat haar na sy huis toe. “En daar sit sy,” vertel Kitty, “Dorie met brood en jam in die hand.” “Goeiemôre, mevrou dominee,” groet Kitty beleef, kyk na Dorie en glimlag. Mevrou dominee vat Dorie aan die arm. Sy het die badjie vol warm water getap en haar aangesê om eers skoon te kom voor hulle verder praat. Met Dorie uit die pad kon die grootmense gesels. Kitty wil weet wat Dorie te sê gehad het. “Nee,” sê mevrou dominee, “die kind sê nie veel nie, maar sy is upset. Ek meen te sê, sy het mos baie ver geloop, en ek rieken sy moes ’n good reason gehad het, nè?” Die eerwaarde sê dat hulle reeds vir onse pa gebel het, ook vir antie Anna op Grabouw. Dorie het gesê sy het weggeloop om by antie Anna en oom Kalie te gaan bly. Skaam-skaam het sy vertel dat sy graag by die anties in die Strand wil bly, maar hulle kyk klaar na haar sussie. Die antie en oom van Grabouw het gesê hulle kom die kind haal. Oom Kalie sal vir onse pa by die werk bel en sê hulle vat die kind. Oom Kalie werk by Elgin se apple factory en alhoewel die ou oom glad nie drink nie, is hy lief vir die jong meide. Maar nou ja, Dorie wil weg van die leë huis, die verantwoordelikhede. Sy is die een wat moet sorg dat daar elke dag brood en melk gekoop word, dat die groente geskil word, dat die huis aan die kant is. Die oom en antie het gekom, iets gesê van die skande wat Dorie oor haar dadda gebring het deur weg te loop, en toe is hulle gereed om te ry. “Daai kind het darem guts, djy kan nou sê wat djy wil,” sê Maggie. “Ek meen, om so alleen te loop is mos dangerous, die vuilgoed kon haar seergemaak het.” Ek en Kitty knik kop. Ja, die kind het guts. Oom Kalie en antie Anna is godsdienstige mense en Dorie moet na dieselfde
kerk gaan. As hulle sing, moet sy saamsing, en as hulle hande klap, moet sy saam hande klap. Haar vriende word gekeur, haar boeke word gekeur. Dorie het miskien van ’n leë huis weggekom, maar geluk vind sy nie by die oom en antie nie. Lank daarna vertel sy my op ’n keer van antie Anna se kat. Die wyfiekat kry kleintjies en die antie wil nie die ses stuks hou nie. Daar waar sy sit en huiswerk doen, kom die antie na haar en sê sy voel nou so aardig oor die ding wat sy gedoen het. Antie is ’n kerkmens, dink Dorie, wat kan so aardig wees? Antie Anna sê sy het die kleintjies in ’n sak gesit en hulle in die dam gegooi om te versuip. Dorie is geskok en wil huil. “Kan jy glo, Pettie,” sê Dorie, “sy sit in die voorste bank en klap hande en skree halleluja, en dan verdrink sy klein katjies!” Op ’n keer gee ek vir Dorie ’n pak kaarte. Sommer om so ’n bietjie op haar eie te speel as sy verveeld is. Antie Anna vat die kaarte en pos dit terug aan my. Ek kry die strokie om te sê daar wag ’n pakkie vir my by die poskantoor. Daar aangekom, sê hulle ek moet die posgeld betaal. Kitty en Maggie is kwaad. “Sy kon maar die donnerse goed weggesmyt het! Hoekom moet sy dit terugstuur dat ons die posgeld ook nog moet betaal? Die skynheilige goed!” Ek voel jammer vir Dorie. Hier is ek in die Strand, daar is sy in Grabouw. Kay bly saam met ’n vriendin in ’n buitekamer. Stewie is in ’n ambagskool, ver van Dadda-hulle af. Ek huil oor my familie wat so verstrooi is. Ons is broer en susters, maar ons het soos vreemdelinge vir mekaar geword. Onse mamma is dood en dinge sal nooit weer dieselfde wees nie. Ek hoop net die dooies kan nie sien wat op aarde aangaan nie, want Mamma sal baie trane huil oor haar kinders. So sit ek aan tafel en dink. Mamma het ons elkeen onder haar hart gedra, nege maande lank. Elkeen se doeke omgeruil, ons snotneuse afgevee, vuil handjies gewas. Sy was lief vir ons, elkeen van ons. Sy het dissipline met die een hand uitgedeel en liefde met die ander. Dis ironies dat Dorie die een is wat weggeloop het. Dadda was lief om te vertel dat van al sy kinders Dorie die mooiste bybie was. Sy het baie maal in Mamma
en Dadda se bed ingekruip, dan het Dadda vroegoggend vir haar koffie in die bed gebring. Dorie, die lieflingskind. Nou sit sy by Dadda se suster en haar man in Grabouw. Alleen, sonder die dadda wat so lief is vir haar. Maar Dorie bly nie lank daar nie. Sy skryf standerd agt, kry werk en spaar. Twee maande later klim sy op ’n trein Johannesburg toe.
Dadda bel Kitty by die werk. Hy kom my die naweek haal, vroeg Vrydagaand. Ek is bly om ’n bietjie weg te kom van die huis, maar ek voel tog onseker. Dadda het ’n nuwe vrou, antie Mona. Sal sy van my hou? Ons het mekaar net vlugtig gesien toe Dadda haar vir ’n visit gebring het. Die anties is nie ingenome met haar nie. Hulle het baie te sê gehad toe Dadda weer trou en die huis verkoop. Dadda-hulle het agter in die jaart van twee ou mense ingetrek. Die plekkie is groot genoeg vir hulle, sê Dadda. Hulle maak ’n klein bydrae vir water en elektrisiteit en so word die huur betaal. Oor naweke peuter en skoffel hy in die tuin terwyl die man op die stoep staan en met ’n bewerige hand en kierie beduie wat gedoen moet word. Een keer per week gaan Dadda vir die ou mense biblioteek toe, hulle is mos wit, en saam-saam word boeke wat versigtig uitgesoek is, gelees en bespreek. Antie Mona is lief vir tydskrifte en vertel vir almal dis haar enigste waais. Dan knipoog Dadda vir die mense en ons lag lekker, sonder dat ek ooit weet waaroor ons lag. Gelukkig is Parow nie te ver van Kaapstad af waar Dadda werk nie, en die stasie nie te ver van die huis in Cloetestraat nie. Dadda se Angliatjie staan teenaan die buitegeboue, beskut onder druifstokke, en die huismense is hulle goedgesind. Hoe Mona Thembi en Dadda by mekaar uitgekom het, weet ek nie. Nog minder hoe my dadda sin in haar gekry het, maar hy noem haar Monatjie en sy noem hom Bokkie. Hulle praat mooi met mekaar, soos verliefdes. Antie Mona is net so breed soos sy lank is en die dubbelkenne hang amper op die naeltjie. Die oë is skrefies en die klein mondjie altyd bloedrooi gesmeer – om dit sigbaar te maak, sê die anties. Die hare is netjies gevleg en bo-op die kop
vasgemaak. Vrydagaand bekyk ek my dadda se nuwe huis van binne. Die meubels is alles nuut, selfs die mat op die vloer lyk nuut. Die huis het ’n tweede kamertjie en ek herken van my mamma se ou meubels. Die aand sit ons in die kombuisie en gesels en antie Mona maak tee. Ek voel skaam dat my dadda se nuwe vrou vir my tee aandra, ek is net veertien jaar oud. Ek voel ’n bietjie senuagtig in haar geselskap en dit laat my hakkel. Sy dink seker baie sleg van Dadda se jongste kind, dink ek toe ek inklim om te gaan slaap. Ek weet nie wat om met haar te gesels nie. Saterdagoggend is daar nie veel kans vir inlê nie. Antie Mona maak pap en ons moet opstaan en kom aansit. Die pap en warm koffie smaak lekker. Daarna moet ek en Dadda winkels toe om ’n bietjie kruideniersware te koop. Sy sit geld in Dadda se hand en vermaan hom om die kleingeld terug te bring. “Moenie die change op nonsense uitgee nie, Bokkie, ons het dit nodig,” sê sy weer. Dadda lag net en met ’n “Aag, Mamma” is ons daar weg. Ek kyk na Dadda waar hy geduldig by die till staan en wag op sy beurt. Hy lyk netjies, skoon geskeer, sy grys hare mooi gekam. Sy klere lyk skoon en sy skoene blink. Hy ruik lekker, soos iemand wat nou net uit die bad geklim het, en hy lyk gelukkig. Ek het gesien hoe antie Mona my dadda pamperlang. Sy vreet die oukêrel amper op van liefde en Dadda blom behoorlik in haar nabyheid. Hy skryf gedigte vir haar en sy lees dit oor en oor. Vir die eerste keer voel ek bly dat Dadda weer vrou gevat het. Hy het die regte ding gedoen. Dis duidelik die ou mense is smoorverlief en ek kan sien sy sorg mooi vir hom. Ons eet middagete en Dadda vertel my van die hell driving. “Die show starts three o’clock, ma ons moet vroeg gaan om parking te kry.” Hell driving. Dit klink lekker, dink ek.
Die wors en eiers word afgesluk en ek en Dadda is gereed om te gaan. Antie Mona eet nog. Haar wors was groter as ons s’n en sy het meer brood geëet ook. “Mamma,” sê Dadda terwyl hy liefies oor haar skouers vryf, “hoe lyk dit met ’n bietjie small change? Ons moet mos betaal om in te gaan.” “Ag nee, Bok, wat is dit dan nou? Djy het mos nie geld nodig vir staanplek nie,” sê antie Mona met ’n hol laggie. “Ons moet die entrance fee betaal, Mamma.” Antie Mona haal haar beursie tussen haar borste uit en maak dit stadig oop. Sy bekyk die geld, vroetel ’n bietjie rond tussen die muntstukke. Sy sit 40c in Dadda se hand. Dis min, dink ek, maar Dadda vra nie nog nie. In die kar kyk ek na die petrollesing. Dit staan amper op empty en ek bid ons kom daar en terug. By die hek van die groot gronde hou ons stil om te betaal. “Fifty cents,” sê die man en hou sy hand. Dadda maak sy hand oop en kyk na die 40c. Ek kan sien sy groot hand is natgesweet. Hy lek oor sy droë lippe. Ek kry skaam vir sy part. “Toemaar, Dadda . . . Ek . . . ek . . . ek het g- . . . geld,” hakkel ek en sit nog geld in sy hand. Hy fluister iets soos “Dankie, my kind” en gee die geld haastig vir die man. Op daardie oomblik haat ek antie Mona vir wat sy my dadda aandoen. Sy verneder hom voor sy kind. Ek koop ice creams vir ons en ek en Dadda eet lekker, en ons gesels lekker. Ek voel skielik nog liewer vir Kitty en Maggie oor die geld wat hulle vir my gegee het. “Mens gaan nie uit djou hys sonder ’n pennie nie,” sê hulle altyd. Ek is nou baie dankbaar vir die pennie. Die hell drivers is opwindend en ons geniet dit terdeë. Tuis sê Dadda niks oor die geld nie, maar ek wens eintlik hy wil iets sê, miskien sal sy sleg voel oor haar suinigheid. Dadda en die antie gaan vroeg kamer toe, hulle wil albei lê en lees. Dadda het ’n dik boek van die ou man geskaai, met sy permissie, en antie Mona het die
nuutste Personality. Ek gaan na my kamertjie toe, vat potlood en papier en teken. Kitty en Maggie is lief om vir mense te vertel hoe talented Pettie is en dan moet almal eers na my tekeninge kyk. Ek droom om kunsskool toe te gaan. Laat Sondagmiddag ry ons terug Strand toe. Kitty en Maggie maak aandete en antie Mona eet omtrent. Sy maak skoonskip van die paar vetkoeke en drink twee koppies koffie. “Haai, Mamma,” sê Dadda, “maar jy eet darem nou lekker.” “Dja, die kos smaak lekka,” beaam sy. Dadda-hulle gaan huis toe en ek vertel die anties van antie Mona se suinigheid. Hulle lag, maar ek voel ’n bietjie skaam. Sy is darem my dadda se vrou.
Die anties vra nie uit oor Stewie nie. Ek is baie lief vir my broer, ek kan selfs die kos van sy bord af eet en hy sal nie kwaad word nie. Ons mamma se dood het ons almal geraak. Stewie het rebels geword, hy kon nie haar dood aanvaar of verwerk nie. Sy hartseer en verslaenheid stuur hom in die verkeerde rigting. Hy raak met slegte geselskap deurmekaar en word na ’n ambagskool gestuur, vir kinders wat nie wil skoolgaan nie. Ek dink terug aan ons dae saam by Mamma se huis. Ons speel skool-skool en Stewie is die meneer. Hy slaan ons hard omdat ons kamma so stupid en lui is. Dan skree en kerm ons, maar dis alles net speel-speel. Daar is nie ’n kind in ons straat wat nie vir Stewie lief was nie. Dit was voor hy met die skollies deurmekaar geraak het. Ons huis het ’n lang gang gehad. Stewie kniel op die kaal vloerplanke, sy albasters wat hy sy perde noem opgeline teen ’n liniaal. Elke perd het ’n naam. Die liniaal word vinnig vorentoe gestoot en die perde hardloop voordeur se kant toe, met Stewie kort op hulle hakke. Die wenner word aangekondig, sy posisie teen die liniaal word verander, en die proses begin van voor af. Maar toe stuur hulle my ouboet ver weg.
“Die law is die law,” het my ousus Kay gesê en haar neus gesnuit. In my laaste skooljaar maak ek maats met Lettie Louw. Sy is die slimste in ons klas en moedig my aan om my drome te volg om na skool kuns te studeer. Sy wil ook universiteit toe gaan, maar haar mense is arm, sy sal moet gaan werk. “Ek laaik hospitale,” sê sy. “Ek het aansoek gedoen by die hospitaal om radiography te study,” sê sy. “Ten minste kry ek ’n bietjie betaling terwyl ek study, en die course is nie te duur nie, en nie te lank nie. Wie weet, miskien kry ’n ryk dokter nog sin in my . . .” “Dink tog aan my as jy eendag so skatryk is.” Ons lag lekker vir die droom. “Nee wat, jy is die een wat ’n famous artist gaan word,” sê sy. “Dink jy maar aan my! Wat sê die anties van die university? Is daar geld?” “Ons negotiate nog. Hulle het ’n polis wat ietsie werd is, hoor ek hulle praat in die kombuis. Ek wil so graag gaan . . .”
Hoofstuk 6
My matriekjaar is iets van die verlede, 1966 lê op sy rug en dis weer Krismis. Ek was die oggend by Lettie en ons het reeds ons “Merry Christmas” gesê en geskenke oopgemaak. Toe is sy kombuis toe, want die familie kom. By my huis is dit dieselfde: die mense kom. Kay kom kuier met ’n kêrel en ons is almal verbaas dat sy so ’n mooi klong losgeslaan het. Paulkie is stil, terwyl Kay al die praatwerk doen. Hulle het Stewie saamgebring. Sy skooljare is lank reeds verby. Hy is ’n jong man van in die twintig, en ons is bly om te sien hoe goed hy lyk. “Kyk, ons het nou gedecide om te trou, nè. Paulkie werk by Karl Bremer hospital en sy geld vir carpenter is nie te sleg nie. Ons moet nog blyplek soek en julle wiet hoe difficult dit is. Henna het gesê ons kan maar by hulle kom bly, maar haar plekkie is so klein. Sy het selwers vier kinners en nog haar suster Miss Oliver ook. Waar gaan ek en Paulkie ook nog lê? Dis difficult.” Ons sit aandagtig en luister terwyl Kay praat. Paulkie knik sy kop, hy stem saam. Ons knik ook. Ja, dis difficult. Ons sit die sitkamertjie vol. Krismis ken mense net een adres, sê die anties altyd, al verander die adres soms. Almal is daar. Behalwe Kay, Paulkie, Stewie en ons drie, is Dadda en antie Mona ook daar en dan nog Kitty-hulle se niggies, antie Maudie, antie Lizzie en antie Maudie se man, Bob. Almal met ’n koppie tee in die hand, oudergewoonte op Krismismiddag. Die hoogtepunt is natuurlik die doekpudding na ete en die koek met middagtee. Op laerskool was dit nog pounds and shillings en toe het Kitty die koek deurspek met tiekies, en die gedoente om te kyk wie kry die meeste tiekies was ’n aardigheid. Later jare was dit nie meer tiekies nie en het Kitty vyfsentstukke ingegooi, maar nie so oordadig nie. “Life is too expensive nowadays,” het die anties verskoning gemaak, maar die koek en pudding het gewild gebly.
“Ek is nou nie professional nie, gooi somma die goedjies so bymekaar. Laaik djy dit?” vra Kitty dan aan die een wat eerste proe. Almal is dit eens: die pudding was heerlik en die koek smaak vorentoe. Dan skep sy gou-gou nog terwyl sy aan ’n ander een vra: “Laaik djy dit?” Stewie se bordjie word tot oorlopens toe vol geskep. Oor die breedte van die kamer glimlag ons met mekaar. Dis ’n glimlag wat sê: ons onthou. Ons onthou al die lekkerte van ons kleinweesdae. Ons onthou en ons is nog lief vir mekaar, ten spyte van die pyn, ten spyte van die lang skeiding, sommer ten spyte van alles. Hy staan van sy plek af op en kom sit by my. “Nou wanneer wil djulle eintlik die wedding hou?” vra Maggie vir Kay. “Ons het gedink somma volgende maand. Daar’s tog no sense in waiting. Ons is reg vir mekaar.” Paulkie glimlag breed. Ja-nee, hulle is reg vir mekaar. Maar waar kan hulle gaan bly, die huise is so skaars. Die government beloof die hyse, ma wa ís die hyse? “Nee, die wit mense sit in hom,” sê oom Bob. “Maar ons is ook mense. Ons trou ook, kry ook kinners, party kyk nog na die ou mense. Hulle moet vir ons ok sorre, ons is ok citizens,” sê antie Maudie. “Second-class citizens, dearie,” sê Maggie, “second-class citizens.” “Hulle moet net die vote teruggee, dan sal djy ’n ding sien,” sê oom Bob. Almal lag, al is dit ’n bitter lag. Oom Bob het altyd dieselfde storie: gee net terug die vote, dan kom als reg. Ons praat nog so van die vote, toe loop oompie Spykers in. “Mirrag, mirrag, mense. Dis al blerrie Krismismirrag en ek is nog nugter. Wa’s daai lekka pudding?” gesels hy met die intrapslag. “Wat sê djy, Spykers,” begin oom Bob weer, “is dit nie high time dat ons weer die vote kry nie?” “Hoeka tyd, my broer, hoeka tyd. Ma dan gaat die gatvere waai, ek sê djou.”
“Nei, ma dis reg so. Ons sal hulle ytsmyt, die hele donnerse klomp. Wa hoor djy van ’n party wat so lank inbly? Dis lankal time for a change.” “Ek stem. Dis hoeka time for a change. Die pudding smaak lekka, antie, ma die bordjie is dan nou leeg . . .” Kitty skep weer. Oompie kan die brandewyn proe en lek-lek oor sy lippe en maak klapgeluide met sy tong. “Het djy al ’n bietjie trousseau bymekaar?” wil antie Lizzie weet. “Watse goete?” vra oompie Spykers, so effens van stryk gebring. “Eet djy djou pudding. Dis girl talk dié,” kom dit van die antie. “Daai wit Hollander is nou vrek, ma dink djy Vorster gaan bieterder wees?” “Bieter vir wie? Nie virrie bruin man nie! Die Progressives het die regte idea.” “Nowhere. Hulle is nowhere. Die Boere stem nie vir hulle nie, hulle is bang virrie Jode. En die United Party beteken boggerol.” “Ek het ’n paar kussingslope, ’n paar lakens, ’n tafeldoek, kleedjies wat ek self gemaak het, koppies en nog so ’n paar odds and ends.” “Gaan djy nog continue met die werk?” “Ja, die lewe is so expensive. Ek kannie anners nie.” “Gee djy net die Progressives ’n kans, ou pellie, ek sê djou . . .” “Wil iemand nog tee hê?” vra Maggie so tussendeur. “Ek hoor my baby girl gaan nou university toe?” “Ja, Dadda, maar ek sal nie op die kampus wees nie. Michaelis School of Fine Art is bo in die Tuine. Ek sal in en uit met die trein moet ry,” sê ek. “Pettie sal goed doen,” sê Dadda vir almal, “sy is so talented.” “Dja, sy teken mooi.”
Daar word weer oor my wonderlike talent uitgebrei. Teen laatmiddag sit oompie Spykers al styf teen Kay se Paulkie, sy lang maer bene voor hom uitgestrek, die arm slap agter op die rugleuning, maar dit drukdruk so effens teen Paulkie se skouers. Die vrouens praat oor Kay se troue. Sy vra ek moet strooimeisie wees. Ek kan my ore nie glo nie, ek was nog nooit strooimeisie nie. Oompie Spykers fluister vir Paulkie, maar ek hoor hom. “Hierso, vir wat wil so ’n oulike jongetjie soos djy nou ga staat en vrou vat, hè?” Paulkie skuif so effens op die bank. Hy glimlag verleë en vryf ’n bietjie aan sy bakore. “Nei, dis ma tyd, oompie. Dis ma tyd.” “Los die oompie, man,” sê oompie Spykers ’n bietjie verontwaardig, “ek’s nog djonk. En djy is nog djonk.” Oompie klap-klap saggies op Paulkie se been. Paulkie weet aan watter kant van die draad oompie Spykers sit en sy kleur is nou asvaal. Oompie se groot hand bly op sy been en Paulkie is in die knyp. As hy verder skuif, val hy van die bank af. Ek kyk na oompie. Hy lyk nog jonk, maar ek weet hy trek al verby vyftig. “Djy moet ’n bietjie wag, man, life is full of surprises,” sê oompie, dié keer ’n bietjie harder. “Jy sal ’n surprise kry as jy nie jou donnerse hand van my Paulkie se been afhaal nie, jou blerrie moffie,” sê Kay hard van anderkant af. “Wat sê djy?” vra oompie nou baie verontwaardig, maar hy haal gou sy hand af. Paulkie neem sy kans waar en staan haastig op. “Dis laat,” sê hy en staan so ’n entjie weg van waar oompie sit.
“Wag nou, Paulkie, ek eet nog,” maak antie Mona beswaar terwyl sy haar derde bakkie eetgoed verorber. Die lipstick en Cutex is die perfect match, sien ek. Ek bekyk haar weer. Sy is smaakvol geklee vir haar jare, krale om die nek met byende oorbelle, selfs die skoene pas by die outfit. “Haai, Mamma, ma jy eet darem lekker,” lag Dadda en knipoog vir my. Kay groet almal behalwe vir oompie Spykers. Sy gee hom ’n vuil kyk. Nog voor sy kan keer, skud oompie hand met Paulkie en Kay is uit by die deur. Hy hou Paulkie se hand ’n bietjie lank vas en agter Kay se rug knipoog hy vir Paulkie en trek sy groot slap lippe op ’n plooi, soos iemand wat ’n soen stuur. Ek voel ek gaan uitbars van die lag, dis so snaaks. Paulkie struikel amper oor sy eie voete om by die deur uit te kom. Stewie druk my styf vas toe hy ook groet. Ek kom nou eers agter hoe lank en breed hy geword het sedert ek hom laas gesien het. Of was hy maar altyd so? Hy vertel dat hy een van die dae Pretoria toe gaan. Iemand het hom ’n werk met goeie geld beloof. Hy moet nog net reël vir blyplek, dan gaan hy, sak en pak. Hy klink so opgewonde soos ek hom as kind onthou, al is hy heelwat ouer as ek. Uncle Bob klap almal op die skouer, antie Lizzie en antie Maudie soen almal. Laaste om te ry, is Dadda en antie Mona. My Kersgeskenk van hulle is ’n koekie seep. Op die papier staan Two for the price of one, maar ek het net een gekry. Oudergewoonte het almal eers lank grondgetrap by die voordeur voordat hulle vir die soveelste maal groet en uiteindelik hulle ry kry.
So kom nog ’n Kersdag aan sy einde. Nou kan ons stryk kry in ons eie huis: elkeen met sy eie gedagtes en gevoelens oor die Kersdag. Ons was skottelgoed en droog af en bêre tot laat. Ek en die anties gesels om die wasbak. “Djou dadda het nie miskien vir djou ’n geldjie gegee nie, het hy?” vra Maggie so met die buk om die bordjies weg te pak. “Nee, hy het nie.” Maggie maak ’n harde snorkgeluid, Kitty ook. Ja, dink ek, ek weet: Dadda onderhou my nie. Nie eens ’n paar sent vir treingeld nie. Nie ’n paar rand vir die
universiteit nie. Die anties het darem gehoop hy sal . . . “Dis Mona,” sê Kitty, “die ou vrek.” Ek vertel die anties van Stewie wat Pretoria toe gaan en van die geleentheid vir ’n goeie werk met baie geld. Skielik voel ek so bly en bewoë, die trane loop sommer. Ons is almal bly. “Sy lewe loep nou straight,” sê Kitty, “hy gaan nou settle.”
Kay se troue is onvergeetlik. Dis einde Januarie en vrek warm. Arme Paulkie kry ’n verkeerskaartjie vir te vinnig ry, en boonop is sy skedonk nie padwaardig nie, sê hulle, maar niks kan die vreugde en opwinding van die groot dag demp nie. My hare word weer reguit gemaak en Kay smeer vir my lipstick aan. Ek loop agter Kay die kerk binne en die ou bekendes van Goodwood kyk my kopknikkend aan. Dié Pettie het verander, kan ek hulle amper hoor dink, sy lyk mooi. My rok is pragtig en ek voel soos ’n prinses. Ek luister aandagtig na die pastoor, maar kan agterna niks van die preek onthou nie. Dis ’n Christelike troue en daar is geen sterk drank nie, tot oompie Spykers se spyt. Kay was verplig om hom te nooi, hy moes vir Kitty en Maggie en vir my bring. Die onthaal is in haar vriendin Henna se huis, en daar ontmoet familie en vriende mekaar weer, party na baie jare. Ek kry baie komplimente en wens die onthaal wil vir ewig aanhou. Agterna skinder die anties oor hoe oud dié een geword het en hoe vet daardie een geword het. Kay-hulle is nie op honeymoon nie. Watter bruin mens het geld vir so iets, en waar moet hulle kwansuis gaan bly? Hulle het ’n groot kamer vir blyplek gekry en met net ’n bed en Kay se trousseau-goed trek hulle in. ’n Paar dae na die troue kry ek ’n brief. Dis van Dorie. Het ek die strooimeisieaffêre geniet? wil sy weet. Het Kay haar kaartjie met die R20 ontvang?
Jy weet, my pay is te min vir ’n treinkaartjie, anders sou ek gekom het, skryf sy. Sy werk in ’n groot hospitaal in Johannesburg. Een van die dae gaan sy as suster kwalifiseer en sy is vasberade om elke sent te spaar om oorsee te gaan. Ek glo haar en wens ek kan saamgaan.
Dis Maart en amper tyd vir die universiteit om te begin. Die enigste kwalifikasie wat ek vir die Michaelis Kunsskool nodig het, is matriek en talent. Maggie se polis het genoeg uitbetaal om my universiteitsfooie te dek en sy het nog ietsie oorgehad. Ek kry ’n Saterdagoggendwerk en die anties is verlig. Nou is my treingeld betaal en dis net my kunsmateriaal waarvoor hulle nog hand in die sak sal moet steek. Ek geniet die Saterdagoggendwerk. Dis in Somerset-Wes en ek sal moet heen en weer met die bus, maar gelukkig word die ekstra uitgawe my gespaar: ek kry ’n lift saam met bure wat elke dag Somerset toe ry vir werk. Hulle weier enige bydrae vir petrol. “Djy is ’n poor student,” sê hulle simpatiek. Die winkel is ’n speelgoed-en-hobby-winkel en daar is nie veel vir my om te doen nie. My baas se naam is Glen Sneddon en hy en sy vrou is baie nice teenoor my. Ek maak koffie, stof af en pak reg, en as dit baie besig raak, moet ek die customers help, maar ek werk nie met die till nie. Die Sneddons het drie dogters en mevrou is weer met die lyf. Almal hoop en bid dat dit hierdie keer ’n seun is. Mevrou het reeds besluit as dit ’n seun is, gaan die naam Peter-John wees. Maar hulle maak hulle klaar vir nog ’n dogter.
My eerste dag by Michaelis is ’n nagmerrie. Iemand sou my kom oplaai, maar ’n uur voor die tyd laat sy weet die motor gee probleme. Ek moet ’n trein haal. Die kunsafdeling van die universiteit is aan die bopunt van die Tuine en ek hardloop die hele ent van die stasie af. Laat vir my eerste klas, klop ek saggies aan die groot deur met die naamplaatjie wat sê Lecture Room Number One. Ek stoot die deur versigtig oop en gaan binne. Die lektor, meneer De Villiers, kyk my kwaai aan. Hy wink my nader en wys ek moet gaan sit. Dit voel asof die ander studente se oë gate in my kop boor. Ek skuif haastig in langs ’n meisie in die voorste ry. My hande is nat van die sweet en my klere sit vas aan my lyf.
“Daar’s ’n meid in ons klas,” sal hulle die aand aan tafel vertel. “Sy was laat vir die eerste klas. Sy ruik na sweet.” Die ma en pa sal wonder hoe ek dit kan bekostig. Ek kyk af na my skoene. Bruin skoene met veters. Lelik. Jy moet ver loop, het Maggie gesê. Hulle is gerieflik en kan maklik skoongemaak word. Nou is hulle vol stof en ek kry ’n bietjie skaam toe die meisie langs my na hulle loer. Na die inskrywing en verwelkoming gaan ons na ’n ander klas vir Basic Design. Die lektor is Neville Dubow. Sy swart vasgeplakte hare lê agtertoe. Hy lek dikwels oor sy dik lippe en glimlag min. Ons leer later om vreemde dinge in sy klas uit paper en cardboard te maak. Daar is ook opgeblaasde ballonne wat op karton vasgeplak word en soos vroueborste lyk, en horlosie-springs wat so styf span dat dit lyk asof hulle enige oomblik oor die kamer gaan skiet. Verder is dit bokse met slingers en ligte wat spookagtige goed op skerms gooi en vreemde prente met vreemde voorwerpe. Peggy Delport gee Graphic Design. Sy rook Lucky Strike en praat met ons tussen bruingevlekte tande en rook wat uit haar neusgate borrel. Sy het ’n seun met die naam Zak. Sy leer ons die fynere kuns van design en lettering. Ons eerste taak: ’n eksperiment met sirkels, lyne en vierkante. Aan die einde van die dag hang ons alles teen die muur. Peggy gee haar review. Sy wys met ’n lang stok na my taak. “Very simplistic, but to the point. Very bold. Good beginning, Patricia.” Die ander studente kyk na my en glimlag. “Die meid begin goed,” sal hulle vir ma en pa sê.
Hoofstuk 7
Die aaning by die kunsskool is groot. Nog nooit tevore het ek so ’n intieme assosiasie met wit mense gehad nie. Ek sit langs hulle, gesels en lag met hulle, en sit selfs aan tafel met hulle in die koffie-kroeg. Wat dink hulle as ek uit dieselfde koppies drink, met dieselfde messe en vurke eet? Ten spyte van my twyfelgedagtes is hulle my almal goedgesind, sleep my oral saam en sluit my by al hul geselsies in. Gesprekke wissel van politiek tot die nuutste flieks, van shotgun weddings tot mense se seksuele voorkeure. Daar is iets vir almal en almal doen mee en het ’n stuiwer in die armbeurs te gooi. Die inkennigheid van my kinderdae verdwyn noodgedwonge as die ander my insleep en my mening vra. Die bruinmenswêreld is vir hulle so onbekend soos die hemel vir ’n Christen. Hulle dink hulle weet, maar eintlik weet hulle “bugger all and zilch”, soos my Engels-onderwyser sou sê. Hulle is lief om my “ander kant van die storie” te hoor. Eerstehands. Hier neem niemand aanstoot nie, niemand word bakleierig nie. Dis oop gesprekke en elkeen kry kans om op sy soapbox te klim. So anders as gesprekke met die anties, wat altyd one-sided affairs is – their side. “Pattie, dink jy daar is enige groot verskille tussen die bruin mens en die wit mens? Ek bedoel nou ons sienswyse, ons aspirasies en so aan. Wat dink jy?” Ek staar die jong Jood aan en hy kyk terug, asook vyf paar ander oë. My hande word weer klam, my opinie klink altyd vir my so insignificant vergeleke met hulle s’n. Ek is arm en probeer my bes om nederig voor te kom en om in die agtergrond te bly sodat hulle my liewer sal uitlos, maar dit help nie. Hulle wil hoor wat ek gaan sê. Hulle oë bly op my. Een van die mans, Leslie, trek lank en diep aan sy sigaret. Rook kruip in my neusgate in en ek voel skielik siek van die reuk.
“Gee ons jóú mening, Pattie,” sê die blonde meisiekind. Ek aarsel ’n oomblik, skraap dan moed bymekaar. “Koop jy altyd daardie sigarette?” vra ek. Leslie kyk my verbaas aan. Hy voel-voel aan sy pakkie sigarette en kyk na die vuurtjie tussen sy nikotienvingers. “Ja,” sê hy, “ek hou van hierdie soort, ek rook niks anders nie.” “Nie soos Paul wat enigiets rook nie,” lag Linda Aronson. Die ander lag ook. “So what,” sê Paul. “They are all the same.” “Ja, hulle is almal dieselfde,” sê ek. “Ek het gelees dis dieselfde maatskappy wat jou soort en hierdie soort maak.” Ek tik met my vinger op die pakkies sigarette. “Miskien maak hulle nog drie of vier ander soorte ook,” gaan ek voort, nou beter op dreef. “Hierdie klomp word in silwer papier toegedraai, daardie klomp in blou papier. Die een is dun en lank, die ander se filter is groter. Tog is hulle dieselfde, van dieselfde maatskappy, dieselfde oes, miskien van dieselfde blaar, geplant deur dieselfde saaier op dieselfde grond.” Hulle luister aandagtig. Wat wil die meid sê? wonder hulle dalk. Binne-in my is dit die ene bewerasie. “Die pakkies word op die rakke geplaas. Jy stap die winkel binne en bekyk hulle. Nou is almal anders. Jy kyk hulle goed deur, let op na die verpakking, en jy neem jou besluit.” Ek aarsel ’n oomblik. My hande wat vroeër klam was, is nou droog. Hulle lê roerloos in my skoot. Eintlik wil ek nou opstaan en wegloop, maar ek weet ek sal eers die kloutjie by die oor moet bring. “Is ons mense nie dieselfde nie?” vra ek huiwerig, maar niemand waag ’n antwoord nie. “Jou pakkie het ’n duur voorkoms in sy goue papier. Myne is bruin en sonder enige blinkertjies. En tog. Ons het langs mekaar gestaan op die land en is deur dieselfde hand gepluk en in een mandjie gegooi. Hoekom sal my
smaak nou anders as joune wees?” “Ja, dit is so . . .” sê iemand ’n bietjie onseker. “Miskien bly jy in ’n mansion, miskien bly ek in ’n hool, maar ons voel dieselfde. Die goedkoop en die duur sigaret brand albei as jy hulle aansteek. Hulle maak albei rook en albei word op dieselfde manier doodgedruk en weggegooi. Die een man se innerlike mens verskil nie ’n greintjie van die ander nie, sy uiterlike wil net voorgee dat dit wel verskil.” Ek skep asem. Stilte. Niemand praat nie, niemand roer nie. ’n Stoel word effens oor die vloer getrek. Iemand lag sag. “Jy is reg. Ons sienswyse en aspirasies is tog dieselfde. Ons streef almal een of ander doel na. Wat is kleur tog?” sê iemand. “Maar dis alles!” roep ek amper te hard uit. “Ag toe nou, Pattie. Innerlik is ons dieselfde, sê jy. Nou sê jy die kleur maak tog ’n verskil. Hoe?” Jamie leun effens vorentoe om my antwoord op sy vraag te hoor. “Julle sien die gereg as iemand wat julle beskerm. Die bruin man sien die gereg as iemand om voor weg te hardloop. Die wet stuur die bruin mense van bakboord na stuurboord. Julle mag nie grond koop nie, julle mag nie huise bou nie. Die gereg sê gaan daar, dan gaan ons. Die gereg sê Whites Only, dan bly ons. So, dis die kleur van die vel wat tog die verskil maak.” “Now you’re talking politics.” “Well, give me a better name.” Hulle kyk na die muurhorlosie. Dis tyd om te gaan. Stoele skuif oor die vloer en hulle staan op. Almal behalwe ek en Jamie. Ons bly sit. Hy kyk my vas in die gesig. Ek voel hoe my wange brand. “Ek praat te veel,” sê ek en besef meteens ek het nie gehakkel nie. Die adrenalien pomp nog.
“Jy praat die waarheid,” sê Jamie. “Kyk na jou. Dis net ons agtergrond wat verskil.” Hy druk my hand. Skielik voel my tong dik en ek kan nie ’n verdere woord uitkry nie.
“Nei, ma djy het hulle gasê!” lag Kitty die aand toe ek hulle van die gesprek vertel. “Wat dink die blerrie wit mense, dat die wêreld aan hulle behoort?” sê-vra Maggie. Die anties probeer nie verstaan wat ek wil sê nie. Hulle is opstandig. Maar die studente het geluister. En verstaan. Jamie gooi die naweek ’n paartie en nooi my ook. “Jy kan iemand saambring as jy wil.” Toe ons alleen is, vra hy hoe gaan ek by die paartie kom, het ek vervoer? Ek skerm, gooi wal. Ek glo nie ek sal kan kom nie. Hy wil nie verskonings hoor nie. Hy sê ek móét kom, hy wil my graag daar hê. Ek moet hom bel as ek nie vervoer kan kry nie, hy sal my kom haal. Bel jou? Ek het nie ’n foon nie. En ’n wit mens my kom haal, in sy motor? In watter land bly die man, weet hy nie van die Immorality Act nie! Ek is arm, dink ek, maar nie hulpeloos nie. Met my orige paar sente sal ek ’n treinkaartjie koop. Ek sê vir Kitty en Maggie dis die bruin man in die tweedejaarklas wat ’n paartie gee. Hulle dra ’n paar sent by vir die treinkaartjie. Aan die ander kant is dit ’n ver ent se loop na Jamie se huis. ’n Ouerige vrou met blou oë, deftige klere aan, maak die deur vir my oop. Sy glimlag vriendelik, maar haar oë flits vinnig oor my. Van kop tot tone. “Ek . . . ek is P- . . . Pattie Peters,” begin ek weer hakkel en voel soos ’n gek. “Kom binne, Pattie, Jamie wag vir jou.”
Sy gesels so in die loop. Dis ’n lekker warm aand vir hierdie tyd van die jaar, ideaal vir ’n paartie. Sy vat liggies aan my arm en lei my na die sitkamer. Binne gons die musiek en die ligte is flou. In die middel van die vloer dans ’n paar studente op die maat van die Beatles. Ander sit in groepies op die vloer. In een hoek staan ’n tafel gelaai met eetgoed. Jamie kom deur die buitedeure van die sitkamer ingestap. “Pattie! Hallo. Ek is bly jy is hier. Kon jy darem ’n lift kry?” “Ja,” lieg ek. “Ek het ’n lift gekry.” “Waar is hy?” wil Jamie weet. “Nee,” sê ek, “ek is net afgelaai.” Ek wonder waar ek ’n maat sou kry om saam te bring, en dit nogal na ’n wit paartie. Anyway, ek is steeds inkennig en geneig om te hakkel, wie sal nou sin kry in my? dink ek. “Ek is bly jy is alleen,” beken Jamie en sit sy arm om my lyf. Ons loop na die kosbelaaide tafel toe. “Kom,” sê hy, “vat ’n bordjie en skep. Eet jy prawns?” Ek glimlag. Ek het nog nooit in my lewe prawns gesien nie. Kabeljou en stokvis wat die anties op die jetty koop as die vissersbootjies inkom, dit ken ek. Maar prawns? Jamie skep en Jamie gesels. Hy roep na iemand aan die ander kant van die kamer. Die meisie kom vinnig na ons toe. “Pattie, dis my suster, Maxie. Sy gaan volgende jaar standerd nege toe en soek kliphard ’n kêrel.” Sy lag met pêrels vir tande en nooi my om by haar te kom sit. Ek stap agter haar aan en ons sluit aan by ’n groepie op die vloer. Die meeste van hulle is in my klas en almal groet my en gaan dan voort met hul geselsery. Ek kyk weg en laat my kop sak as ek ’n mond vol kos nader bring, maar as ek opkyk, sien ek die studente se mooi klere. Almal is casual aangetrek, maar dis smaakvol en duur. Om hul nekke hang
hangertjies van goud, om hul arms is armbande van goud. Linda Aronson is altyd lieflik teenoor my, maar die diamantjies wat aan haar oorlelle hang, flits soos lighthouse-liggies. Hulle waarsku mense soos ek oor haar en die ander se bevoorregte lewe. Dis liggies wat sê: Bly weg as jy arm is, you are out of your depth. Ek sorg dat my mond te vol bly om aan die praatjies deel te neem en ek kou lank en ernstig, my oë ver oor die see van koppe. Ek is hier, dink ek, maar moet my nie betrek nie. Die pad van die stasie af was ver en ek besef skielik ek is natgesweet. My bordjie is leeg en Maxie wys my waar die badkamer is. Ek gaan sit op die toilet seat. Die klank van die musiek is nou effens gedemp. Die sepies ruik lekker en ek was my hande en arms en selfs onder my arms. Onder die wasbak kry ek ’n ou lap en ek poets my skoene so ’n bietjie. Dieselfde paar skoene wat ek elke dag klas toe dra. Ek trek ’n kam deur my hare en gooi ’n bietjie van mevrou se duur poeier voor by my rok in. Terug in die sitkamer trek Jamie my aan die hand. “Kom dans met my,” nooi hy. “Ek kan nie dans nie,” lag ek verleë. “Dis maklik,” lag hy terug. “Maak net so,” en hy swaai sy heupe en arms ’n bietjie rond. Ek volg sy voorbeeld. So in die dans kry Jamie vir ons elkeen ’n blikkie bier. Dis bitter, maar ek sluk. Jamie dans nou baie na aan my. Hy hou my ’n bietjie te styf na my sin vas, maar ek is bly oor mevrou se lekker poeier. Sy warm asem kielie my wang en hy glimlag mooi. Ek loer onderlangs of die ander ons nie aanstaar nie, maar hulle dans en gesels, heeltemal onbewus van ons. Die tweedejaarstudent se naam is Sonny. Hy is Slams en hy het sy nooi saamgebring. Ek is bly ek is nie die enigste bruin mens daar nie. Ek verkyk my hoe spontaan hulle met die wit mense lag en gesels. “Elke ou het sy plek, rieken ek,” sou oompie Spykers gesê het, en dan bygevoeg het: “Die bruin man is net oppie wrong side, dis al.”
Nee, dink ek, hier is nie right or wrong sides nie. Party mense gesels met my, ander ignoreer my. Net Jamie dans met my. Ná ’n paar uur se jolyt besluit ek dis tyd om te gaan. Die stasie is ver, ek sal laat anderkant kom, dan moet ek nog huis toe loop. Ek is bang vir die skollies. “Ek neem jou huis toe. Jy gaan definitief nie hierdie tyd van die nag in ’n trein ry nie,” sê Jamie. “Dis gevaarlik, so vroualleen.” “Nee, asseblief nie,” smeek ek. “Ons is maats, maar jy is wit en ek is nog steeds bruin.” Jamie sit sy vinger op my lippe. “Moenie ’n kompleks kry oor jou kleur nie, Pattie, onthou jou preek oor die sigaretpakkie.” “Dis juis waarna die mense kyk, Jamie. Na die pakkie. Asseblief, los my, ek gaan liewer alleen.” Jamie skop vas. Ek moet vergeet van die trein. Hy sal bel vir ’n taxi en die taxigeld betaal. Anderdag kan ek weer vir hom iets doen, sê hy sodat ek nie moet sleg voel oor die geld nie. Ek stry nie meer nie, want ’n paar van ons klasmaats sluit nou by ons aan. Leslie praat van Rod se nuwe kar en ons gaan almal buitentoe. Jamie gaan bel en ons klomp loop die lang tuinpaadjie af om die kar te bekyk. “Het jy al ooit so iets in jou lewe gesien?” vra Viv Helzinger. Die kar is in al die kleure van die reënboog geverf. Daar is baie gekskeerdery oor Rod se kar. Ons loop om en om die kar om hom beter te bekyk. Die aandlug voel koel en ek is spyt ek het nie ’n trui saamgebring nie. Maar watter trui kon ek saambring, nie een is mooi genoeg vir ’n paartie nie. Ons wil net ingaan toe ’n motor om die hoek kom. Hy toet en hou voor die huis stil. “Dis jou taxi, Pattie,” roep Jamie. Hy kom vinnig tot by my en druk ’n paar note in my hand. “Dankie dat jy gekom het.” Hy gee my ’n piksoentjie op die wang.
Die ander studente spot goedig met my omdat ek in ’n taxi huis toe gaan. “One art student who’s going in style!” “Moenie my driewiel omstamp nie!” “How about a small loan for a bus ride?” “Pasop vir die driver, Pattie!” Ek lag vir hulle stuitigheid en groet so met die verbystap. “Waarheen?” vra die man agter die stuurwiel. “Die Strand. South End.” Stilte. Hy kyk om. “Wat sê jy? South End? Is jy Coloured?” Die ja steek vas in my keel. Ek besef nou eers die bestuurder is wit. Jamie het ’n wit taxi gebel. Ek moet uitklim. Die ander studente staan nog op die grasperk. Party skerts nog oor die taxi, ander waai vir my. Hulle staan en wag dat die taxi moet ry. Die papiergeld word klam in my gebalde vuis. My hart klop in my keel. Nie nou nie, bid ek, nie voor almal nie. Nie hier nie. Asseblief! Asseblief! “Sorry, maar jy moet uit. It’s not allowed, jy weet dit. Ek is ’n wit taxi.” “Ek . . . ek is jammer,” stotter ek. Maar ek dink: jammer vir wat? Jamie kom haastig nader. “Wat is fout?” wil hy weet. “Listen, pal, white taxis are for white people. You know what I mean?” “Lyk sy miskien vir jou bruin?” vra Jamie en ek kan hoor hy is kwaad. “Sy bly in South End, pal. Sorry.” Ek maak die deur saggies maar vinnig oop en toe. Trane brand my oë. Die
vernedering is te groot. Voor my vriende. “What’s wrong?” roep iemand en die groep staan nader om te sien wat aangaan. Mevrou kom die paadjie afgeloop. Sy wil ook weet wat aangaan. “Hy wil haar nie huis toe neem nie. Hy’s ’n Whites Only taxi,” roep Jamie oor sy skouer en vat my hand. Nou praat almal deurmekaar. “Het jy miskien iets teen haar?” “Nee, ek ken haar mos nie.” “Nou ja, vergeet van haar kleur en laai haar op. Sy is een van ons. Ons is almal kunsstudente. Geld is mos geld.” “Sorry, pal. No go. Sy’s nie wit nie. Ek wil nie my licence verloor nie. Besides, ek ry nie ná donker in South End rond nie.” Hy kyk hoe Jamie my hand vashou en skud sy kop effens. Hy laat die kar zoemzoem-geluide maak, hy’s haastig om van ons af weg te kom, maar hy hoop tog hy gaan ietsie kry vir sy petrol. Paul is groot van persoon en hy staan nou dreigend nader. “But you are mad! Who’s going to know? It’s dark.” Al die studente staan nou op die sypaadjie. Party maak simpatieke klikgeluidjies en ander skree beledigings. “Listen, I don’t make the laws, I only obey them. You want a black girlfriend, you get her a black taxi!” Die man gee vet. Klippertjies spat en ’n stofwolk omvou ons. Die taxi verdwyn om die hoek. Iemand tel ’n klip op en gooi dit met mening na die verdwynende kar. “Pig!” skree nog een. Almal het iets te sê. Almal behalwe ek. Ek wil huil en weghardloop, maar al wat
ek kan doen, is om my kop in skaamte te laat sak. Sonny en sy nooi ontferm hulle oor my. “Ons bly daai kant,” sê Sonny, “jy kan saam met ons ry.” Op pad Strand toe is hy nie meer so vriendelik nie. “Daar sal ’n dag kom dat die wit mense hulle gatte sal sien,” sê hy ergerlik. Ek hoor weer vir oom Spykers praat van die gatvere wat gaan waai. “Hulle is darem nie almal eenders nie,” skerm ek. “Wil jy bet?” kom dit van Sonny. “Daai was ’n lekker paartie, maar wie staan in die kombuis? Die meid, wie anners. Ek luister hoe hulle oor equal rights praat terwyl die meid al agter hulle aanloop en optel. Jamie se ma kla teenoor sy pa dat die meid al weer Sondag wil af hê en dis die tweede Sondag in een maand. My ore is oop, ek hoor sulke goed,” sê hy dik. “Ag toe nou, Sonny, Pettie wil dit nie hoor nie,” probeer sy nooi keer. “Hoe dink jy het sy gevoel toe sy uit die taxi moes klim? Hoe sou jy gevoel het? Die man kon ’n uitsondering gemaak het, maar nee. Wie sou geweet het, anyway?” So redeneer Sonny die hele ent tot by my voordeur. Hy klim uit en staan langs die kar en wag totdat ek die voordeur oopmaak. Met nog ’n “Dankie” van my en ’n “Lekker slaap” van hom is hulle vort. Ek is bly om terug in my eie huis te wees. Die anties is nog wakker. Hulle was bekommerd oor my en wou nie gaan slaap nie. Die water in die ketel is nog warm en dit word weer aangeskakel. “Ja,” sê ek, “die paartie was baie lekker. Sonny-hulle het ’n mooi huis. Nee, daar was nie wit mense nie, net bruin mense. Ek kan nie die presiese adres onthou nie.” Lieg. Lieg. In my bed rol die trane by die gedagte aan my vernedering. Ek druk my hand onder my gesig in, die kussing is papnat. Onder die kussing lê Jamie se note, vir die verkeerde taxi. Ek weet nou daar is goeie wit mense en daar is slegte wit mense. Jamie is goed. Ek snuit my neus saggies uit sodat die anties nie moet weet ek huil nie. Ek voel
weer Jamie se warm asem op my wang, sy sagte aanraking, sien sy mooi glimlag. Sy oë het diep in myne gekyk en my hand het gespeel met die donker hare wat in sy nek krul. Ek druk my neus voor by my pyjamas in en ruik mevrou se poeier. Sal ek ooit sulke duur poeier kan bekostig? Sal ek ooit in so ’n deftige huis kan bly? Ek dink terug aan die taxi en my maats se geskokte gesigte. Hoe kan ek hulle weer in die oë kyk? Toe onthou ek iets wat my mamma altyd gesê het: “God is die liefste vir die bruin mens, daarom word hy so beproef.” Is dit waar, Mamma? Mamma het dit die eerste keer gesê die slag toe die wit kinders my van ’n veld verwilder het omdat ek leë bottels loop en optel het. “Voertsek, hotnot!” skree hulle oor die veld. “Voertsek! Dis ons bottels! Voertsek!” Ek het gehardloop so vinnig as wat ek kon. Mamma het getroos en trane afgevee, maar die mooiste was haar woorde oor hoe lief God vir die bruin mens is. Ek het dit toe geglo, maar nou? Ek snik.
Dis twee dae voor die universiteit sluit vir die Julievakansie. Jamie praat met my, maar hy lyk ernstig en ’n bietjie afgetrokke. Die laaste paar weke was dit asof hy my vermy. “Dis eksamens, ek het nog so baie om te doen,” het hy verskonings gemaak. Nou is die eksamens verby en kan ons ontspan. Ek en Jamie sit in die koffiekroeg. “Nou ja, ons het darem almal die pyp gerook. Was jy ook bang?” vra hy, nog steeds ’n bietjie afgetrokke. “Omtrent. Dankie tog dis verby, maar ek dink hulle gaan strenger wees teen die einde van die jaar. Ek hoor die keuring is baie streng. Net die heel bestes gaan deur na die tweede jaar. Graphic design-poste in die buitewêreld is min en dis werklik net die beste . . .” Ek praat, maar dis asof Jamie my nie hoor nie. Die ernstige fronsie tussen sy oë bly. Hy kyk nie eens na my nie, maar in die leë koppie voor hom asof hy iets
daarin wil lees. “Ek moet jou iets vertel, Pattie. Ek sal nie die einde van die jaar hier wees nie. Ek gaan weg.” “Weg waarheen?” vra ek geskok. “Hoekom?” Hy skud sy kop, maar sy oë vermy myne. “Ons trek. Ons gaan Stellenbosch toe. My pa ken mense by die universiteit en hy reken my kanse is baie goed om . . .” Ek is oorbluf. Hoekom? Hoekom in die middel van die jaar? wil ek weet. “My ouers is verkramp. Hulle was maar nog altyd so. Hulle moan oor alles . . .” Skielik tref dit my: Dis ek. Dis ek! “Ek moes nooit na die paartie toe gegaan het nie, Jamie. Ek is so jammer.” “Nee, moenie dit sê nie. Die hele Ikey setup is baie liberaalgesind en my ouers kan dit nie aanvaar nie. Die lewe van ’n Matie is vir hulle meer aanvaarbaar. Dis hulle taal, hulle mense, so sê hulle. Hulle wil omring wees deur ander wat soos hulle dink. My ma is die ergste . . .” “Jou ma? Sy was baie nice teenoor my.” “Skynheiligheid, dis al.” Hy vryf oor my vingers. Ons word skielik stilgemaak deur die wete dat ons hande afgekap is. Ons kan niks aan die situasie doen nie. Jamie kners op sy tande en kap saggies op die tafel. “Dammit!” sê hy hard. “Jamie, moenie jou so ontstel nie. Ons bly in Suid-Afrika, onthou?” “Ek wens ek kan vergeet.” “Dis beter as bruin met bruin trou, wit met wit. So behou ons elkeen iets van onsself. Ek sal nooit in jou lewe kan inpas nie en nog minder sal jy in myne.”
“Kan ek vir jou skryf? Ons kan mos nog vriende bly?” vra hy hoopvol. “Selfs dit is moeilik, Jamie. Sê nou ek is wit, nie bruin nie. Ek is arm. My mense vergeleke met joune is amper agteraf en dit maak ’n groot verskil. Dis nie net die kleur nie, dis die agtergrond wat ook tel. Elke ouer wil hê sy kind moet ‘goed’ trou. Met iemand op dieselfde vlak of hoër, maar definitief nie armer nie. Moenie jou ouers verwyt nie. Hulle gun jou net die beste.” Jamie sug diep. “Jy klink nes my ma,” sê hy. Wat kan ek anders sê? Sy ma is bang sy verloor haar enigste seun in die arms van ’n bruin meisie. Sy dink aan die skande, die implikasies, die tronkstraf, die ganse onmoontlikheid daarvan. Ek weet dat as ek en Jamie nie by dieselfde plek kunsstudente was nie, sou hy nooit op enige ander plek twee keer na my kant toe gekyk het nie. Ek sou net nog ’n meid gewees het. So het ek Jamie se weggaan aanvaar, nes ek die vernedering van die taxi moes aanvaar.
Jy’s ’n meid, Jy’s ’n meid, Jy word weggesmyt!
Hoofstuk 8
Na Jamie se vertrek kom my inkennigheid terug. Ek is bang om weer betrokke te raak. Ek bly stil as ek moet praat en bly weg as ek moet gaan. Dis beter so, dink ek, ek hou my op my plek. Die einde van die jaar breek aan en so ook die eindeksamen. Ek ry al die ent pad in Kaapstad toe om uit te vind ek het nie geslaag nie. Nog ’n vernedering. “Wat ga ons maak?” vra Kitty vir Maggie een aand toe ek reeds in die bed is. Ek slaap nie, want ek lê en wonder dieselfde ding. Ek voel baie sleg, want al hul geld is daarmee heen. Ek weet die geld is nie verkwis nie; die universiteit was ’n ondervinding wat ek vir niks sou wou verruil nie. Ek het baie geleer, maar ook besef my werk kort die oorspronklikheid wat die kernelement van ’n graphic designer moet wees. Kitty vra die wat-gaan-ons-maak-vraag nog ’n maal. Die antwoord kom met die pos. Van Dorie. Ek het haar laat weet ek het nie die paal gehaal nie en skuins voor Krismis kry ek haar brief. Sy skryf: Hiermee stuur ek jou treinkaartjie se geld, kom Johannesburg toe. Hier is baie werk en die geld is goed. Jy kan saam met my in die kamer bly, die eienaar van die losieshuis sê dis goed so. Dankie, Dorie, dink ek bly, ek kom. Die anties is nie tevrede nie. Hulle wil hê ek moet bly en vir hulle werk, help met die expenses. Hulle is arm en het baie geld deur die jare op my uitgegee, nou gooi ek hulle weg. Maar ek wil nie luister nie, my kop staan nou Johannesburg toe en daar is geen keer aan my nie. Ek sal werk kry en elke maand ’n geldjie stuur, belowe ek. Dis ook nie asof ek op eie houtjie die vreemde aandurf nie, Dorie is mos daar.
Die anties praat en praat, maar Pattie Peters wil nie kopgee nie. So word my plek bespreek op die Trans-Karoo, second class, die treinkaartjie gekoop, ’n oproep gemaak om te sê wanneer ek daar aankom en die koffers gepak. Ek staan op die stasie met ’n hart wat wil bars van excitement. Ek was nog nooit in die Transvaal nie. Dis einde Januarie, Kitty vee die sweet af. Sy’s swaar en voel die hitte, maar sy het saamgekom om koebaai te sê. Oompie Spykers staan eenkant, hy gee die anties kans om die dinge te sê wat gesê moet word as ’n mens vir ’n kind koebaai sê. “Djy moet skryf,” word ek op die stasie vermaan. “Ek sal.” “Djy moet djou gedra, djy’s ’n ordentlike kind.” “Ek sal.” “As djy nie die job kry nie, kom djy dadelik terug. Djou hys is hier.” “Ek sal, ek belowe.” Die man blaas die fluitjie en ek is dankbaar toe die wiele begin rol. Daar wag ’n nuwe lewe op my en ek is ongeduldig om dit tegemoet te gaan. Die treinrit is lank en vermoeiend. Ek is bly toe die trein uiteindelik die groot stasie binnetrek. Ek steek my kop by die venster uit. Dorie sien my en hardloop al langs die bewegende trein en waai met die arm, net so excited soos ek. Ons was nooit groot maats as kinders nie, maar hier in die vreemde is dit anders. Ons het niemand anders nie, net vir mekaar. Met ’n suitcase in die hand loop ons deur die mengelmoes van mense. Ek verkyk my aan die mense wat kom en gaan. Ek het nog nooit so baie swart mense gesien nie. “Dis die myne hier,” verduidelik Dorie. Daar is ’n vreeslike slag en die hemele verlig asof dit Guy Fawkes is en toe val die reën. Ons hardloop.
“Dit reën omtrent elke dag hier in die somer. Die klimaat is anders as in die Kaap. Komaan, maak gou, mevrou Soes wag en ek moet drie-uur by die werk wees,” sê Dorie en stoot my by ’n taxi in. Voor ’n groot huis hou ons stil. Ek klim uit en kyk om my. Tot my verbasing sien ek wit kinders in die straat speel. Dis ’n ou buurt en van die huise is verwaarloos, maar dis tog beter as my buurt in die Strand. Ek volg Dorie haastig die paar treetjies op na die voordeur. Sy klop nie, stap sommer in. My suitcases word letterlik in ’n kamertjie ingesmyt en toe loop ons kombuis toe. “Mevrou Soes! Ons is hier!” roep Dorie. “Mirrag, mirrag,” sê mevrou Soes met die inloop en ek hoor weer vir oompie Spykers. Ek staar die groot vrou aan. Sy is vet en baie lig van kleur. Die reguit bruin hare is hoog op die kop in ’n bolla vasgemaak. Haar oë is groot en rond en die mond groot en vriendelik. Eers dink ek sy is wit, maar aan haar praat hoor ek sy is bruin. “So djy is nou Pettie, nè? Nei, ma djy het ’n mooi sussie, Doortjie.” Ek en Dorie lag. Mevrou Soes gee my ’n moederlike drukkie. “Djy sal heppy hierso wees, ek wiet dit. Siestog, djy is seker gedaan vannie travelling. ’n Bietjie koffie, my skat?” Ons drie sit om haar kombuistafel, ’n koerant lê oopgesprei oor die blad. Chris Barnard se gesig pronk op die voorblad. Hy is oorsee om vir die mense daar meer te vertel van die wêreld se eerste hartoorplanting. Mevrou Soes tik met ’n vinger op die professor se gesig. “Wat sê djy, Doortjie, is dit ’n slim mannetjie dié? Hy het die grootmenere daar annerkant ore aangesit. Good for him, hy gaan blerrie ryk word.” Na die koffie wys Dorie my gou waar ek gaan slaap. “Hierdie is nou jou bed. Dinge is maar bietjie deurmekaar, ek werk so hard, ek kry nie kans om skoon te maak nie. Mevrou Soes maak nie kamers skoon nie en was ook nie. Die kamer en kos is goedkoop, maar vir die res moet jy self sien en kom klaar. Ek sal vanaand ’n bietjie aan die kant maak en klere was. Hang
solank jou goeters op.” Nog voor ek iets kan sê, is sy uit. Ek kyk om my. Die kamertjie is klein. Die kas se deur bly toe met behulp van ’n stukkie karton. Die stoel se binnegoed peul ’n bietjie uit. Op Dorie se bed lê ’n vuil handdoek en in een hoek ’n bondel vuil klere. Orals lê skoene rond. Haar bed is nie opgemaak nie. Ek pak my suitcases uit en bêre my klere. Ek ruim die kamer ’n bietjie op, maak ook Dorie se bed op. Ek en Dorie is nie al mense wat daar bly nie. Mevrou Soes se losieshuis het ’n hele paar kamers wat sy aan jong meisies verhuur, agt altesaam, twee-twee per kamer. Buite bekyk ek die huis vir ’n tweede maal. Dit lyk nuut geverf, van die dak af ondertoe, selfs die tuinhekkie blink, en daar is geen gebreekte ruite nie. Die klein tuintjie het blomme en ’n netjiese paadjie loop van die hekkie tot by die trappies. Die rooi blommetjiesgordyne lyk vrolik in die voorste vertrekke en net onder die vensterbanke staan die rooi swaardlelies hoog teen die muur. In my geestesoog sien ek my dadda by ons ou huis waar hy tussen die swaardlelies spit en met sy sakdoek die blare afstof. Terug in ons kamer skryf ek dadelik vir die anties. Ek beskryf alles baie rooskleurig. Ek wil nie hê hulle moet oor my worrie nie. Die aand was Dorie nie die vuil klere nie. Sy is moeg en ons gaan slaap vroeg. Al my goed van die kunsskool is saamgesleep in ’n groot lêer en hiermee loop ek die volgende dag Johannesburg se strate plat op soek na werk, maar ek kry niks. Jy het nie ondervinding nie. Jy is nie wit nie. Jou werk is nie goed genoeg nie. Hier is nie aparte toiletgeriewe vir bruin mense nie. So gaan dit dag na dag. Later doen ek aansoek vir klerklike werk, want ek kan darem tik en ’n bietjie boekhou doen, maar dis steeds nie maklik nie. As ek bel vir die werk, moet ek eers vasstel of hulle ’n Kleurling sal vat. Soms sit ek die
gehoorbuis neer nog voor die persoon klaar verskonings gemaak het oor waarom dit nie moontlik is nie. Ná drie weke se werk soek is ek bedruk en moedeloos. Ek is vasbeslote om nie terug huis toe te gaan nie, maar ek weet Dorie kan my ook nie veel langer onderhou nie. En toe uiteindelik kry ek werk. In Braamfontein. ’n Klerklike werk met ’n bietjie tik by ’n assuransiemaatskappy. Daar is heelwat ander bruin mense in die kantoor. Die salaris is R80 per maand en ek dink dis ’n fortuin! Vir die kamer en kos moet ek slegs R30 betaal, dus is daar genoeg oor om vir die anties ook iets te stuur. Die werk is maklik en die mense gaaf, maar dis ’n ver heen-en-weer-lopery van Doornfontein na Braamfontein. Die Transvaalse winter vang my. Dis ’n droë koue wat tot op die been byt, die neus brand en die oë laat traan. Intussen vind ek uit ons bly in ’n wit area, maar omdat die gebied so oud en verwaarloos is, kyk die meeste huiseienaars anderkant as ’n anderskleurige ’n huis wil huur. Die baas kry gereeld sy huurgeld, die huis is goed versorg en die mense gee hom nie probleme nie. Buitendien lyk mevrou Soes wit en niemand kyk ons skeef aan nie. In elk geval is die mense aan ons een kant altyd dronk en dié aan die ander kant lyk ook maar gekoffie.
Vier maande na my aankoms vertrek Dorie oorsee. Dis koud by ons, maar sy sê Juniemaand is die regte tyd om oorsee te gaan, dis somer daar anderkant. Sy is ’n verpleegsuster en sal maklik werk daar oorkant kry, so sê sy. Na Dorie se vertrek leer ek die ander huismense beter ken en maak maats met Mandie Swanepoel. Ons maak koffie van warm kraanwater en gesels tot saans laat. Ons jol baie saam in haar Mini. Een aand kry die kar ’n pap wiel en Mandie het nie ’n spare wheel nie. So karring ons aan op die pap wiel totdat ’n kar langs ons stilhou. Dis ’n lang man met ’n baard. Hy kry ons jammer en laai ons op. Sy maat skuif agter die Mini se stuurwiel in en so word ons gesleep tot by die naaste garage. Nie lank na dié voorval nie trou Mandie met haar lang Samaritaan en sy en Gideon trek Kimberley toe, agter sy ouers aan. Dit breek my hart om haar te sien
gaan en die gemis is groot. Intussen spaar ek hard vir ’n kuiertjie Kaap toe. Al die meisies in die losieshuis het kêrels en ek word nie maklik saamgenooi nie. My lewe bestaan grotendeels uit werk, eet en slaap. Na ek my huur betaal het en ’n geldjie vir die anties gestuur het, is daar nie veel oor nie. Anyway nie vir jol nie, maar ek knyp tog ietsie af vir my hobby. Einde van elke maand loop ek in stad toe. Daar op ’n hoek in die middestad ontdek ek ’n oulike kunswinkeltjie waar jy absoluut enigiets kan koop. Ek wens ek kan olieverf en canvas bekostig, maar my salaris wil nie so ver rek nie. Dan koop ek maar karton, charcoal en waterverf. Dit hou my besig oor naweke en ander alleentye. Partykeer vra mense by die werk vir my om ietsie vir hulle te verf, maar ek is te skaam om ’n prys te maak, dan stop hulle my ’n paar rand in die hand. Uiteindelik het ek genoeg gespaar om Kaap toe te gaan. Die excitement loop hoog. Op die stasie wag oompie Spykers my in, ’n antie aan elke kant. Oompie Spykers ruik na drank en ek trek gesig toe hy my ’n piksoentjie op die wang gee. “Sorry, Pettie, ek het al ’n bietjie begin celebrate. Dis darem Krismis, of wat sê djy?” Maar vandag pla dit my nie, dis lekker om weer tuis te wees. Dis ook lekker om weer by my ou skoolmaat Lettie Louw te kuier. Haar kop staan ook Johannesburg toe, en ek sien uit na haar koms. Die Kaapse son brand en ons gaan dikwels strand toe. Ons loop die lengte van die jetty, sit dan op die rand met bene wat afhang. Die jong klonge probeer ons uitlok om met hulle te gesels, maar ons stel nie belang nie, ons wil net met mekaar gesels. Vissersbote kom in en gooi hul visse oor die jetty. Ek weet na werk sal Maggie ook hier tussen die manne kom staan en kibbel oor die prys van kabeljou. Sy sal skel en sê die visse lê al heeldag in die son, en die manne sal sê die bote het nóú nét ingekom. Dis ’n ou storie. My twee weke in die Strand gaan te gou verby. Al was die kuiertjie heerlik, is dit net so lekker om terug te gaan. Dis al of ek ’n bietjie vervreemd geraak het van die dinge en mense in die Kaap. Miskien het ek grootgeword, dink ek. Weg is die kind, en in haar plek ’n
grootmens wat haar eie potjie kan krap. Die gevoel was daar dat die anties my gedurig dophou en in stilte beskuldig oor die grootmenswording. Ek weet hulle het my geblame omdat ek so baie tyd saam met Lettie deurgebring het. Die wêreld waarin die anties leef en my wêreld lyk meteens so anders. Selfs ons gesprekke is hakkerig. Hulle vra en ek antwoord. Dis al. Terug in my kamer by mevrou Soes besef ek my nuwe tuiste is nou my enigste tuiste, die huis in die Strand is nou net ’n kuierplek.
Na Dorie se vertrek is my nuwe kamermaat Fanny Geyer. Ons word nooit groot maats nie, want Fanny speel baie netbal en naweke bly sy by haar kêrel se mense. ’n Klompie maande na haar intrek het sy en haar kêrel ’n groot uitval, en ons besluit om Hillbrow so ’n bietjie te gaan verken. Make-up word aangesit en ons trek mooi aan. Dis ’n warm somersaand en ons doen window-shopping. Die jong mans kyk vir ons en party fluit met die verbystap, maar ons soek nie kêrel nie. Skielik praat iemand naby ons. “Good evening, my name is Sotos. You want to go to cinema?” Ons draai om en daar staan ’n kort, vriendelike mannetjie. Ons giggel en stap verder, maar die man gooi nie tou op nie. Hy loop al agter ons aan, al pleitende dat ons saam met hom na die cinema moet gaan. Hy is ’n uitlander, dis duidelik aan sy voorkoms en sy aksent. “Kom ons gaan, hy gaan tog betaal,” fluister ek vir Fanny. “Hy’s dan wit,” fluister sy terug. “Wat daarvan, hy dink ons is ook wit.” Ons lag. Dis ’n nuwe ondervinding dié. Anyway, redeneer ons, wat kan so ’n kort mannetjie nou aan ons doen tussen ’n klomp mense? En daar sit ons toe, ek, Sotos en Fanny, en niemand kyk ons skeef aan nie. Ek is tog bly toe die ligte afgaan, bang iemand kan sien hoe senuagtig ek is, bang iemand herken my. Sotos fluister in my oor: “Where you stay? Where you work?” Halfpad deur die
fliek raak hy net weg. Die prent is klaar. Die ligte gaan aan en ek en Fanny maak dat ons wegkom. Ons hardloop oor die pad, maar ons is nie vinnig genoeg nie. “Pattie! Fanny! Wait!” roep Sotos ons van die fliek se kant af. Hy het ’n maagaandoening gehad, maar voel nou baie beter. Wil ons nie saamkom vir ’n drankie nie? Nee, dankie, nie nou nie. Wat van môreaand? Nee, ons kan nie, nie môreaand nie. Gee my jou telefoonnommer, smeek hy telkens. Met ’n groot gesukkel skud ons hom af. Die hele pad huis toe lag ons oor die petalje en hoe maklik ons in ’n wit fliek kon kom, no questions asked. Fanny verseker my ’n mens maak net asof jy daar hoort en niemand sal iets sê nie. Die volgende dag is daar ’n oproep vir my by die werk. Dis Sotos. Hy wil kom kuier. Nee, nie vandag nie, nie môre nie. Nee. Nee. “You don’t like me because I am Greek?” Die vraag klink meteens vir my vrek snaaks. Nee, dis nie waar nie. So gaan dit ’n week lank, totdat ek instem om hom by ’n sekere restaurant vir middagete te ontmoet. Ek is doodbang van my kollegas sien my en voel heeltyd onrustig. Daarna is dit amper elke dag net vir middagete. As die anties my kon sien, sou hulle sê: “Ma djy het alte wit geworre,” en seker nog baie ander dinge ook. Sotos Kyriakos bederf my. Hy koop baie geskenke, maar probeer nooit om aan my te vat nie. Hy is altyd in ’n pak uitgedos, en sy maniere is onberispelik. ’n Regte gentleman – of so het ek gedink. En hy wil net kom kuier, by my huis. Na drie weke besluit ek dit kan nie langer so aangaan nie. Griek ofte not, hy is wit en ek is bruin. Dit moet end kry. Ek vra raad by Fanny. “Lat die mannetjie kom en self beslyt of hy djou nog wil hê. Miskien sal die shock tactics hom goed doen. Ons sal hom inwag.” Ek stem saam. Hy het ’n shock tactic nodig. Ek het in elk geval nie veel aan die man nie, hy is dan half my size en rook te veel. Ek gee hom my adres.
Die volgende aand sewe-uur klop Sotos aan die voordeur. Mevrou Soes se dogter maak oop. Almal is gewaarsku hy kom en hulle sit ingeryg in die sitkamer, party met hul kêrels. Mevrou Soes se dogter kom my roep. Ek bekyk hom daar waar hy op die punt van ’n stoel sit. Hy lyk baie ongemaklik en speel met sy worry beads, loer kort-kort na die ander klomp. Ons groet en praat ’n paar woorde, maar hy is baie styfbekkig. “We go see my friend,” is al wat hy sê. Op pad na sy “friend” praat ons niks verder nie. Ek weet nou: the penny has dropped. Die shock tactics het gewerk. Hy is ontnugter en weet nie wat om te sê of hoe om van my ontslae te raak nie. “Here we are,” sê Sotos dik toe ons voor Queen’s Court in Joubert Park stop. Ons vat die lift en ek lees die bordjie wat sê Whites Only. Ek glimlag toe ek sien Sotos lees dit ook. Op die tweede vloer klim ons uit. Hy klop hard aan ’n deur. ’n Man maak die deur oop. “This is my friend Laki,” sê Sotos. Die man Laki glimlag mooi, skud my hand en nooi ons binne. Hy skink vir ons koeldrank, bring vir ons koek. “It is 29 February,” sê hy asof ons nie weet nie. “It is my birthday.” Ek wens hom geluk en ons skud weer hand. Sotos praat Grieks met die man. Ek kan niks verstaan nie. Hy vertel hom seker ek is bruin, dink ek. Skielik sê Sotos hy moet gaan, groet vinnig en nog voor ek beswaar kan maak, is hy weg. Ek en die vreemdeling sit oorkant mekaar, en ek bekyk die man met die mooi glimlag en laggende oë. Op my gesig is daar ook ’n glimlag, maar in my hart is daar ’n bewerasie. Ek wonder stilletjies of Sotos terugkom. “So, are you lucky?” spot ek, ’n bietjie senuagtig. “No. Not lucky-lucky. Greek Laki. L-a-k-i,” spel hy. Ons lag saam en ons begin gesels. Hy kan ten minste ’n bietjie Afrikaans praat, en al is dit nie vlot nie, verstaan ons mekaar. Soms is dit ’n mengelmoes van Afrikaans-Engels. Daar is deernis in sy stem toe hy breedvoerig vertel van sy mense en sy land. Hy het in Sparta grootgeword, sy ma en pa leef nog albei en
hy het vier broers, almal in Griekeland. Twee jaar gelede het hy Suid-Afrika toe gekom. Dit word duidelik dat Sotos nie van plan is om terug te kom nie. Dis al na tien voordat ons aanstaltes maak om te loop. Hy neem my huis toe in sy bakkie. Ek wonder of ek hom of Sotos ooit weer sal sien.
Vrydagaand sit ek by mevrou Soes in die kombuis en gesels. ’n Meisie kom ingehardloop. “Kom, Pettie! Djy het ’n boyfriend wat vir djou wag!” sê sy uitasem. “Wat! Is dit Sotos?” vra ek verbaas en val amper van my stoel af. “Nei, man, hy lyk baie bieter, somma baie handsome. Kom kyk self.” Ek gaan kyk. Hy staan in ’n hoek, sy hande agter sy rug en sy kop so effens na een kant gedraai. Hy glimlag breed en mooi toe ek nader kom, die oë lag. Ek kan dit nie glo nie. Laki. “Ons gaan bietjie in rondte?” sê-vra hy terwyl sy hand ’n sirkelbeweging maak. Ek neem aan hy vra my om uit te gaan. “Ek gaan net gou ’n trui haal,” sê ek. Ek trek sommer ’n ander rok ook aan, mooier skoene en smeer lipstick aan, borsel my hare en spuit parfuum. My hart klop skielik ’n bietjie vinniger en ek sien hoe bewe die hand met die borsel. Ek vat aan die deurknop en staan ’n oomblik stil. “Onthou, Pattie Peters,” praat ek met myself, “jou ticket sê Cape Coloured. Onthou wat met Lorrain gebeur het.” Ons gaan kyk na Barbra Streisand in Funny Face by ’n Ster-teater. Pouse koop Laki vir my ’n groot box chocolates en na die fliek eet ons by die steakhouse langsaan. My eerste keer in ’n steakhouse.
Ek vertel hom nie ek is bruin nie. Hy het gesien waar ek bly, hy het die mense gesien. Hy moet weet. En hy moet self besluit. So begin die ding met Laki Pappasani. ’n Griek van Sparta, ambagsman van beroep, en ek, Pattie Peters, bruin meisie van die Strand, klerk van beroep. Hy kom elke naweek kuier. By mevrou Soes se losieshuis sien hy wit mense, bruin mense, swart mense, maar nooit rep hy ’n woord nie. Hy hou my vas en soen my sonder om ’n oog te knip. Oor naweke word ek oral saamgesleep as Laki vir mense kwotasies vir werk moet gee, maar ons is tog versigtig waarheen ons gaan. Laki weet van die apartheid laws. My grootste vrees is dat een van my kollegas my sal sien. Maar soos die maande aangaan, word ons al hoe makker. Laki is versot op sokker en ek sit langs hom op die paviljoen, tussen die wit mense, sonder dat iemand my skuins aankyk. Saterdagaande gaan ons drive-in toe. As dit interval is, loop ek en Laki hand aan hand om ons chips en Coke te koop. Niemand kyk my skeef aan nie. Laki stel my voor aan vriende en kennisse. Die Griekse gemeenskap behandel my vriendelik en ek leer Griekse koffie drink. “Where is your family?” wil hulle weet. “My suster Dorie is in London, werksaam by ’n hospitaal; my oudste suster, Kay, is in die Kaap, getroud en swanger; my broer, Stewie, is in Pretoria, hy werk by die munisipaliteit; my pa is ’n klerk by die Kaapse Provinsiale istrasie en sy vrou is ’n huisvrou. Kitty en Maggie het my na my ma se dood aangeneem en werk nog albei, maar dis amper tyd vir hulle om op pension te gaan en hulle kop staan Transvaal toe, agter my aan.” Met ’n skok dink ek wat Kitty en Maggie sal sê as hulle van Laki moet weet. Hulle moet nooit uitvind nie, hulle sal dit nie goedkeur nie. Ek moet solank vir hulle verblyf soek en ek sidder. Dit gaan nie maklik wees nie, hulle kom met meubels en al. Ek stel die flatsoekery so lank moontlik uit. Oplaas kry ek ’n eenslaapkamerflat in Newclare. Met die trein is ons taamlik naby mekaar, maar darem ook nie te naby nie. Laki verf die flat van bo tot onder en ek was vensters. Hy staan op ’n
plank wat op twee kratte rus, sy arms hoog bo sy kop. Hy verf die plafon vir die tweede keer. Die flat was septies vuil. “You know, Sotos is gone,” sê hy so tussen die verwery deur. “Gone where?” wil ek weet. Dit klink of die man dood is. “He go back to Cyprus. You know he is bad news. I feel sorry for Cyprus.” Ek lag. Dis ’n man wat ek liewer nie weer wil raakloop nie. Ek het agterna by Laki gehoor dit was sy gewoonte om meisies by ryk ou Grieke af te laai. As die meisie gewillig was en sy het die aand oorgebly, het hy ’n goeie tip verdien. Gelukkig het ek dit vrygespring. Hy het my by ’n arm maar aantreklike jong Griek afgelaai. Goddank.
Kitty en Maggie arriveer laatmiddag op die tweede dag van Oktober in ’n groot vragmotor, saam met ’n ander familie wat ook Transvaal toe kom. Die flat dra hul goedkeuring weg en hulle is sommer baie in hul skik, alhoewel hulle ’n bietjie moan oor die huurgeld. Hulle is omring deur grasperke en bome en baie ander mense, en die winkels is net ’n hanetreetjie ver. Laki wou die anties ook inwag om ’n handjie by te sit met die meubels se aflaai en indra, en ek moes lelik wal gooi. Hy weet nie ek het hulle nog nie van hom vertel nie. Dis ’n berg wat nog vir my voorlê. Wat sal die anties sê as hulle sien hy’s wit? Wat sal die anties sê? Wat sal hulle sê!
Hoofstuk 9
Met die koms van my anties is die tyd ryp vir my en Laki om oor ons te praat. Oor ons verhouding. Ons kleur. Ons verskille. Ons toekoms. Die ding tussen ons moet tot ’n punt kom en moontlik tot ’n einde. Die anties mag nooit uitvind dat ek met ’n wit man omgaan nie. Maar my slapelose nagte van kommer oor hoe ek met Laki gaan praat oor ons verhouding is verniet. Hy praat eerste met my daaroor. Hy bel my gedurende die dag en vra ek moet hom by ’n sekere kafee ontmoet. Die plekkie is klein en onopvallend en ons gaan dikwels soontoe. Dis nog vroeg in Desember, maar die tinsel hang reeds in al wat ’n venster is. Hy wag my nie in by die deur soos gewoonlik nie, maar sit reeds by ’n tafel. Hy is nie sy gewone vriendelike self nie. In die plek van die lagplooitjies is die spiere nou styf oor sy wangbene getrek en sy botande byt op sy onderlip. “Is iets verkeerd?” vra ek dadelik. Hy knik en kyk senuagtig rond. Ek word ook nie gesoengroet nie. Hy kyk weer om hom. Selfs die dun gordyntjie voor die venster langs ons word effens opsy getrek sodat hy buite kan sien. “Laki, wat gaan aan?” vra ek weer, my stem effens sagter. Eintlik is dit nie vir my nodig om te vra nie; ek weet. Ek het dit verwag. “The police. They come, they ask questions. You have Coloured girlfriend. This is South Africa, is not Greece, is not allowed Coloured girlfriend. You go to jail.” Dis ’n warm dag buite, maar ’n koue rilling gaan by my rug af, my keel trek toe. Ek kan nie ’n woord uitkry nie. Ek kyk na Laki se bekommerde gesig en ek sien Jamie, ek hoor die man in die taxi. My hande sweet en die trane brand my oë. Ek het dit verwag. Elke dag het ek hiervoor gewag. En nou? Nou kan ek dit tog nie aanvaar nie, maar ek kan ook niks daaraan doen nie.
Ek kyk na die blokkiespatroon op die tafeldoek voor my. Met my nael krap-krap ek al langs die strepies. Eers op en dan af. “Don’t cry,” hoor ek sy stem. Ek krap op die tafeldoek, harder en harder.
Jy’s ’n meid, Jy’s ’n meid, Jy word weggesmyt!
Die kinders skree: “Voertsek, hotnot, dis ons bottels dié!” Die taximan sê: “Sorry, jy moet uit, ek is ’n wit taxi.” Die polisie waarsku: “This is South Africa, not Greece, you go to jail.” “Pattie, jy hoor ek praat?” Ek knik. Ek hoor. Ek verstaan. “Toemaar, ek het dit verwag. Ons kan mekaar nie weer sien nie. Ek het van die begin af geweet dis malligheid.” “No! Jy praat die nonsense!” Nonsense? Ek gaap hom aan. Hulle dreig hom met die tronk en hy dink ek praat nonsense? Verstaan hy nie? “Hulle sal jou in die tronk gooi. They can deport you!” Hy kners op sy tande, kap die kneukels van sy gebalde vuiste teen mekaar. “Ek is my baas, nie police. Ek is nie communist. Hulle kyk die innocent mense, hulle moet kyk die sleg mense. Maak ek iemand dood? Is ek die spy? My life is straight. Ons gaan weg en ons trou.”
Ek blaas hard deur my neusgate. Die man is van sy sinne beroof. Trou, bruin met wit? “Nee,” sê ek, “dis onmoontlik, ek wil niks daarvan hoor nie. Dis buite die kwessie. Waar kan ons gaan bly waar die polisie ons nie sal kry nie?” Sy werk is hier, myne ook. Wat sal sy mense, sy vriende sê? En myne? Ek gee ’n hol laggie. “Wie sal ons trou?” wonder ek hardop. “Jy worry die mense, en ek? Worry jy nie van my?” Ek wil hom teen my vasdruk en my doodhuil, maar ek kan hom nie eens aanraak nie. Los my, pleit ek, voor ons albei in groot moeilikheid beland. Liewer nou as later. Liewer die teleurstelling nou as die ontnugtering later. Nee, sê hy, hy sal my nie prysgee nie. Na die hel met die polisie, na die hel met die tronk, na die hel met almal wat ons wil skei. Ons moet net versigtig wees. Hulle sal sy flat dophou, ook vir my. Ek moet vir niemand sê dat ek hom nog sien nie. Sê ons is klaar met mekaar; iemand het gaan verklik. Ons moet niemand vertrou nie. Hy kyk weer rond, trek weer die kantgordyntjie opsy en kyk na buite. Ek sien die pêreltjies sweet op sy voorkop. Met sy sakdoek vee hy oor sy gesig. My hart klop soos ’n verskrikte dier s’n in my borskas en die trane wil rol. “Laki, luister vir my,” probeer ek met hom redeneer. “Hulle sal ons vang, hulle sal! Hulle is oral, ek weet . . .” “Nee! Moenie so worry. Sê almal ons is klaar, finished. Ek kom nie weer by jou huis. Hulle sal weet ons is klaar, finished.” “Die polisie is oral,” bly ek kerm. “Hulle sal ons vang.” Hy druk my natgeswete hand styf vas. Nou moet ek hom vertel. Ek het nog nie vir een van my familie gesê ek gaan met ’n wit man uit nie. Hulle mag nie weet nie. My anties mag hom nie sien nie, hulle weet nie van hom nie. “You say nothing? Why not?” vra hy geskok, teleurgesteld. Ek kyk hom verslae aan. Kan die man dan nie begryp nie? Kan hy nie verstaan
nie? Ek is Cape Coloured en hy is Grieks. Ons bly in Suid-Afrika! “So? Jy bang die familie. I don’t play fool, I marry you.” Ek skud my kop. Nee, dis nie moontlik nie. Maar dit skeel hom min wat familie en vriende gaan sê. Nog minder wat die gereg sê. Hy wil met my trou en my kleur het niks daarmee te make nie. Hy het my gekies en dis klaar. Ek kyk weer na die blokkiespatroon op die tafeldoek. Die een blokkie bruin, die ander wit en tussenin die strepie wat hulle skei. Laki praat van reclassify. Hy het ’n vriend wat ons sal help om aansoek te doen. “We must take chance,” soebat hy. Voeg dan by ons moet mekaar vir eers nie sien nie, hy sal my werk toe bel.
Die aand lê ek en wonder of ons mekaar ooit weer sal sien. Die muur voor my lyk te hoog vir enige mens om oor te kom. Ek wonder met wie hy gaan praat oor reclassification. Hy is ’n immigrant. Sy Engels en Afrikaans is beroerd, hulle sal hom nie simpatiekgesind wees nie. Na my sal hulle glad nie luister nie. Ek is ’n second-class citizen. Dinge lyk hopeloos. Laki bel eers laat die volgende dag. Die duiwel het my lank reeds wysgemaak ek sal nooit weer van hom hoor nie. Hy het die saak met ’n sekere man bespreek en hy sal die nodige vorms invul en die aansoek vir Pretoria aanstuur, teen ’n fooi, natuurlik. Die man sê onder die Population Act het baie bruin mense al wit geword, swart mense het bruin geword, ons geval is nie hopeloos nie. Hy het my identification nodig. Ek en Laki spreek af om mekaar op ’n sekere plek te ontmoet. Daar aangekom, wag Laki reeds met die bakkie. Dit vat al my guts om in die bakkie te klim. Ek verwag dat ’n polisieman my enige oomblik gaan uitruk en tronk toe sleep. Elke sirene wat ek hoor, laat my hare rys en my hart vinniger klop. ’n Blok van die polisiestasie laai Laki my af. Ek moet gaan testify, under oath, hoekom ek gereclassify wil word. Dat ek wit lyk, met wit mense omgaan, dat daar wit bloed in my familie is en lieg, lieg.
Daar is min mense by die polisiestasie en ek is dankbaar. Met ’n bewerige stem verduidelik ek aan die man in uniform hoekom ek daar is. “Hierdie kantoor is vir wit mense. Gaan om die hoek, na die ander entrance,” beduie hy. Ek voel soos ’n sot, loop vinnig om die hoek. My hart sak in my skoene. Die mense staan by die deur uit, ek sal moet wag. Uiteindelik is dit my beurt; ek verduidelik en ’n konstabel skryf. Hy neem my na die Commissioner. Hy is ’n ou man met baie blink goed op sy uniform. Hy kyk my kwaai aan, asof hy wil seker maak ek lyk wit. Ek teken, die man stamp dit, teken dit. Met my affidavit in my hand loop ek haastig terug bakkie toe. Ek gee die papiere vir Laki, sien hoe my hand bewe. Hy is nie kwaad vir die lang wag nie, net dankbaar vir die affidavit, vou dit versigtig, sit dit in sy binnesak. Toe eers vertel Laki my daar was vroeg die oggend ’n polisieman by sy flat. Hy wou kamstig sy Immigration Permit sien. Die man het glo goed rondgekyk, vertel hy. “I want to ask: hoekom jy nie kyk onder bed?” sê hy ergerlik. My oë skiet vol trane. Ek lewer nie kommentaar nie, maar ek het gehoor hulle doen dit, en sal dit miskien nog in die toekoms doen. Die bangheid gryp my aan soos nog nooit tevore nie. Die Vadertjie weet, ek wil nie tronk toe gaan nie. Wat sal die mense sê? Kitty het eenkeer gepraat van mense wat “deserve what they get”. Is dít wat die mense sal sê, dink ek: Dis my verdiende loon omdat ek met ’n wit man lol? Alles is ingevul, alles geteken. Nou wag ons.
Hoofstuk 10
Ek maak seker dat almal weet ek en Laki is uitmekaar. Hy is wit. Geen ander rede is nodig nie. Almal het net die kop simpatiek geknik. Hulle het geweet dit gaan gebeur. Siestog. Foeitog. Laki bel my by die werk. Hy gaan na ’n ander flat trek, miskien sal die polisie dan sy spoor verloor en hom met rus laat. ’n Polisieman was weer die vorige aand by sy flat met een of ander flou ekskuus. Hy klink bang en ek kry hom jammer. Ons besluit om die twee weke voor hy na ’n ander flat trek nie met mekaar in aanraking te kom nie. Dis ’n lang twee weke. Ek gaan kuier vir die anties. Hulle weet ek het ’n boytjie en vra baie uit. Ek probeer hulle vrae sidestep, maar dis nie maklik nie. Hy is ver weg op besigheid, ek weet nie wanneer hy terugkom nie. Nee, ons is nie ernstig nie, miskien sien ons mekaar nie weer nie. Los dit nou! Laki kry ’n flat in Hillbrow. Die plek is baie cosmopolitan en het so baie flats, dis werklik ’n plek waar ’n mens so ’n bietjie kan verdwyn. Dis ’n paar dae voor Krismis en Hillbrow is oortrek met liggies en decorations. Krismismusiek blêr oor luidsprekers. Mense lyk gelukkig. Ek ook. Ek en Laki is weer bymekaar. Na die twee weke se separation is dit wonderlik om weer by hom te wees. Ek besef dat ek net so min vir hom kan koebaai sê as hy vir my. Ons lê op sy bed. Twee lywe klou aan mekaar vas. Ons koester en streel, word een in ons liefde vir mekaar. Dis toe eers dat ek behoorlik te hore kom van al die nagtelike besoeke en die vroemôrebesoeke deur die polisie en die kere wat hy moes saam polisiestasie toe. “Jy het ’n Coloured girlfriend. Onthou, dis Suid-Afrika, nie Griekeland nie,” is
hy oor en oor gewaarsku, “bly weg van die bruin mense!” “Ek het nie girlfriend nie,” sê hy, maar hulle glo hom nie. “Julle moet pasop. Los mekaar uit,” waarsku hulle. “Ek gaan na Greek Embassy, ek is nie moordenaar. Ek is decent mens,” sê hy. “Ordentlike mans lol nie met Coloured girls nie,” kap hulle terug. My trane van woede maak sy bors nat en hy troos, maar ek weet: daar is geen toekoms saam met hom nie. Eintlik het ek dit van die begin af geweet, dink ek bitter. Ek wil jou nie prysgee nie, sê ek vir hom, maar die ding tussen ons is onmoontlik. “Kom ons maak nou uit, voor dit te laat is, voor ons in die tronk sit.” Hy hou my stywer vas en praat saggies en vertroostend: “I never leave you. Never.” Sy woorde is balsem vir ’n moedelose siel. “Ons wag vir jou reclassification, dan trou ons,” sê hy. “Alles sal regkom. Don’t worry.” Hy weet wat hy uit die lewe wil hê, sê hy: hy wil vir my hê. Ons moet net geduldig wag op Pretoria se antwoord. Die antwoord kom, gouer as wat ons verwag het, vroeg in Januarie. Die redes wat u verstrek in u aansoek vir herklassifikasie is nie voldoende nie . . . Hulle herinner my aan die wette van die land. Tra-la, tra-la, die uwe. Laki lyk soos ’n vlieg wat teen die muur papgedruk is en ek voel so. Ons sit in stilte. Wat nou? Waarheen nou? Hy gaan weer met sy vriend praat, ek moenie moed opgee nie. Geld kan als koop, redeneer hy. Dae later stel hy my voor aan die vriend, en die vriend is nie so moedeloos soos ons nie. Ons moet weer probeer, ander redes aanvoer, dieper in die familie ingaan. Baie bruin families het êrens ’n wit familielid, en hy bedoel nie honderd
jaar gelede nie. Ek moet uitvind, bietjie rondvra. Ek lyk wit en die moontlikheid is goed dat daar êrens wit bloed in my familie kan wees. “Nee, wat,” sê ek, “ek glo nie daar is werklik wit bloed in my familie nie, ek sou daarvan gehoor het.” Daar is geen troos meer vir my nie, nog minder vir Laki. Die teleurstelling is groot. “We go away,” sê hy later, “where nobody know us.” Hy aarsel. “We go to Greece,” sê hy, maar hy klink nie baie convinced nie. “Nee,” sê ek, “ons kan nie vir ewig bly hardloop nie. Jy het juis Suid-Afrika toe gekom omdat daar nie veel geleentheid vir werk in Griekeland is nie. Om terug te gaan is nie die solution nie.” Maar ek weet ook nie van ’n ander uitweg nie. Ek dink aan die anties wat wag om hom te sien en ek besluit die ding moet in die ope kom of vir ewig gesmoor word. Maar hoe, en wanneer? We try again, besluit Laki uiteindelik, en ek kan nie anders as om saam te stem nie. Ons is nou te diep in die ding om sommer tou op te gooi. Ek laat ander, beter foto’s neem. Nou moet ek die anties pols oor ’n moontlike wit streep in die familie. Ek weet dit gaan nie maklik wees nie en ek sidder vir wat hulle gaan sê.
Dis in hierdie tyd dat daar ’n oproering onder die bruin mense kom. Dit gaan alles oor ’n jong klong wat op die verkeerde tyd op die verkeerde plek betrap is. Die polisie arresteer hom gedurende ’n rooftog. Ek is onskuldig, hou die jong man vol, maar word tog toegesluit; hy sal die volgende dag in die hof verskyn. Die klong se ouers gaan mooipraat. Julle maak ’n fout, pleit hulle, hy is onskuldig, hy’s nog op skool. “Wag vir die hofuitspraak,” sê die polisie. “Hy was daar toe die rooftog plaasgevind het.” Die aand kry die klong ’n asma-aanval en sterf nog voordat die polisie hom by ’n hospitaal kan kry. Ure later word die regte kwaaddoeners vasgetrek. “Die poelies het hom doodgemaak,” sê die bruin mense.
Die dokter bevestig dat dit ’n asma-aanval was wat tot sy dood gelei het, maar die mense wil nie hoor nie. Skoolkinders bestook polisiestasies met klippe en petrolbomme. Die polisie slaan terug en toe is die herrie los. My anties is bang. Hulle was nog nooit in enige riots betrokke nie. Ons het nie nog ’n Sharpeville nodig nie, sê hulle. Word dan opstandig. “Die donnerse wit mense,” vloek Kitty, “hulle het hom doodgemaak.” “Die skollies moet hulle nekke inslaan. Wa hoor djy van ’n kind wat onskuldig toegeslyt word, en nogal sy ma se only son,” praat Maggie verder. “Die seun is van natural causes dood,” skerm ek. “O, nou glo djy wat hulle sê!” roep Maggie verontwaardig uit, so asof ek nou ’n verraaier is. Al dié dinge bemoeilik my saak met Laki. Maar toe dink ek: as hulle nou so kwaad is vir die donnerse wit mense, is dit nou miskien die regte tyd om te vra of daar wit bloed in die familie is. “Julle vloek die wit mense,” begin ek huiwerig, “maar is ons bruin mense nie almal ’n bietjie wit nie? Hoeveel van ons het nie wit bloed in ons are nie?” “Dis dinge van djare gelede,” sê Kitty dik, asof sy wil waarsku: moenie krap nie, netnou bloei jy. “Dit was die wit mense wat nie by hulselwers gehou het nie. Hulle het gaan hoer en rumoer onder die swartes.” “Ek praat nie van honderde jaar gelede nie. Kyk na my, ek was al in ’n wit bioskoop en by ander wit plekke en niemand het my skeef aangekyk nie.” Die anties staar my aan asof ek die duiwel in lewende lywe is. Vir ’n paar sekondes is hulle sprakeloos. Maggie se oë is skrefies toe sy na my loer. “Djy gaan na wit plekke? En met wie nogal?” vra sy geskok. Kitty leun ook effens vorentoe om my antwoord te hoor. “Aag, ek kan mos alleen gaan, maar dit was meesal saam met Fanny,” sê ek in self-defence.
“Ma djulle is alte voorbarig! Soek djulle miskien die wit boyfriend?” My hart maak ’n druisgeluid in my ore en ek sluk hard. “Ek wil net sê ek lyk wit en miskien is daar –” “Solank djy net onthou aan watter kant vannie draad djy sit. Djy is nou groot genoeg om verstand te hê van die goete. Anyway, dink djy die poelies sal ’n wít man sommerso opslyt? Nei, hulle sallie!” beantwoord Maggie haar eie vraag. Daar is geen keer aan die anties nie. Die een wit mens is soos die ander, die een voorval soos die ander. Hulle kan nie onderskei nie, wil nie onderskei nie. Dis wit teen bruin en ek sidder. Wat gaan hulle sê as hulle uitvind van Laki? “Wat het die wit man al regstreeks aan julle gedoen?” wil ek weet. Sê my nou van die wit streep, pleit dit in my. Sê my nou. “Wiet djy miskien hoeveel old age pension ons kry en hoeveel kry die wittes? Onse combined income is ma R36 a month, dink djy ons kan daarop liewe? My Lord! Kan djý daarop liewe? Help djy nie elke maand met die rent nie? Djy praat soos ’n stupid kind!” Ek trek diep asem in. Vra hulle nou. “En wat van die wit streep in ons familie?” vra ek voorbarig maar bang. Hulle kyk my fronsend aan, kyk dan weg, trek aan die sigaretjie. “Dis dinge vannie past.” “Maar dis julle wat die past so goed onthou.” Hulle kyk vlugtig na mekaar. “Wie is dit,” por ek hulle aan, “wie is dit?” Stilte, maar toe weet ek: die mes het die slagaar geraak. Ek is nou soos ’n hond wat bloed ruik. Ek moet weet, my toekoms hang daarvan af. “Is dit my ma?” wil ek weet.
“Ga! Ons bloed is bruin. Ons bevuil ons nie met ander nie. Ons wiet wat ons is en hou by onse djaart.” Kitty huiwer ’n oomblik, kyk verby my na die ander kant van die klein kombuisie. Sy verwilder ’n vlieg, suig aan haar sigaret. “Dis djou pa. Hy het skande gemaak,” sê sy sag. “Skande?” vra ek opreg verbaas. “Watse skande?” “Djy sê nie iets vir djou pa nie!” “Ag, Kitty, lossit nou, die kind kan mos nie help as . . .” “Ma sy vra, sy torring!” “Is my pa wit? Was sy ouers wit?” beur ek voort met my ondervraging en voel hoe my hart woes en wild in my binneste klop. “Nei, vra djy ma vir hom, hy ken sy family. Ma ek sê djou dit: Vir al sy kamma witgeit is hy vandag net so swart soos daai vet meid van hom! Ons het nooit iets gesê toe djy klein was nie, ma nou is djy groot en het verstand. Daai meid is nie bruin nie, sy is half Tswana. En hy vat haar! Dis nes destyds, dieselfde skande. Sy het eers met die galoep, nou dink sy sy is ons equal! Virrie second time trou hy buite sy djaart!” Die harde woorde klink nog harder in die klein kombuisie. Rook word in dik walms deur neusgate geblaas. Kitty is nou smoorkwaad en met elke woord knik Maggie die kop. Sy stem saam. “Sy is goed vir my pa,” verdedig ek hom ’n bietjie huiwerig, “en hy is lief vir haar.” Snorkgeluide. Rookwalms. Nog snorkgeluide. Ek probeer ’n ander redenasie. “Hoekom behandel julle haar anders omdat sy Tswanabloed het? Julle kla omdat die wit man julle anders behandel omdat julle bruin is. Dis discrimination, sê julle, maar nou doen julle dieselfde. Moet ’n mens nie practise what you preach nie?”
Ek skrik vir mý harde woorde. “Ons practise wat ons preach! Sy was in ons hys, en het ons haar weggeja of gevloek? Ons was goed vir haar oorlat djou pa ons oorlee niggie se man is, oorlat hy djou pa is, ma dis verkeerd. Hy maak skande. Hy trou byte sy djaart, gooi sy kinners weg.” En aan en aan en aan. Ek kan nie meer luister nie, dis tevergeefs, maar nou weet ek ten minste: daar ís ’n wit streep. En ek weet waar hy lê. Op pad na die losieshuis dink ek weer oor alles wat gesê is. Hulle is jaloers, dis al, besluit ek. Miskien het hulle gehoop my pa sal met een van hulle trou ná my ma se dood. Hulle het seker hul tande vir hom geslyp! Maar daar sit hulle vandag, albei oujongnooiens, albei op die rak, en seker ’n bietjie verbitterd oor die kans wat deur hulle vingers geglip het. Na my pa se troue met antie Mona het hulle nooit ’n goeie woord oor hom te sê gehad nie, en nog minder oor haar. Hulle het hom gedurig afgekraak. Ek lag in my mou. Die ou mense is steeds jaloers!
“Die wit man moet nie die bruin man vloek, maar die bruin man, hy vloek die swart man. Everybody he is mad,” sê Laki by die aanhoor van die anties se uitbarsting. Hy sê ons ly almal aan akute selfbejammering en verkramptheid en sulkes moet sommer almal hel toe gaan. Ek skrik vir sy woorde, hy klink so verbitterd. Nog nooit is daar teen hom gediscriminate nie, maar nou skielik is party mense snaaks teenoor hom. Dis asof die storie hom vooruitloop: Laki mix with Coloureds. Die Griekse ouers is kwaad. Is hul mooi dogters dan nie goed genoeg vir hom nie? Hulle sal goeie príka betaal vir hul dogters. Soos die swart man lobola betaal, betaal die Griekse bruide príka. Laki is aantreklik en verdien goeie geld, hy is ’n goeie vangs, en nou hardloop hy agter die Coloured girls aan. En om alles te kroon, is die Suid-Afrikaanse gemeenskap hom ook nie goedgesind nie. Hy is immers ’n immigrant, wat soek hy hier, anyway?
So praat hy voort en ek kry hom jammer. Ons enigste hoop nou is my pa en hy sit in die Kaap. Ek is bang om vir hom te skryf en te vra: is Pa wit? Sê nou antie Mona weet niks van die affêre af nie? Dit kan dalk kwade gevoelens veroorsaak tussen hulle. Ek sal hom by die werk moet bel. Dadda is bly en ’n bietjie verbaas om van my te hoor. Sonder veel aarseling val ek met die deur in die huis. Vertel my van die wit bloed in ons familie. Hy gooi wal. Dis dinge van die verlede. “Dadda, ek wil weet, asseblief. Sê my.” “Aag, Pettie . . .” Hy skerm, gooi nog wal. Die tiekieboks piep-piep vir die soveelste maal. Hy beloof om te skryf. Ek sal moet wag. Laki sal moet wag.
Gedurende hierdie tyd begin ek aan kwaai hoofpyne ly. Dis so erg dat ek dokter toe gaan. Hy gee my kalmeerpille en dit help ’n bietjie. Alles en almal werk op my senuwees. Elke slag as daar ’n oproep vir my is, skrik ek. Elke slag as ’n wit man ’n geselsie met my by die werk aanknoop, is ek kortaf. Miskien sit die verklikker saam met my op kantoor. Die gedagte is ondraaglik. Ek gaan soveel moontlik met die bruin mense om, ons doen etenstyd saam inkopies, eet saam. Ek gee selfs voor ek het ’n kêrel – bruin, natuurlik. Maar die hoofpyne kom en gaan en kom en bly. Elke keer as ek na Laki se flat gaan, sluip ek by die fire escape op, soos ’n dief in die nag. Hy sit twee slotte aan, niemand kan die deur van buite af oopforseer nie. Selfs die caretaker kan nie inkom nie. Daar is niks in die flat om my met hom te verbind nie, maar hy wil nie hê mense moet in sy goed kom rondsnuffel nie. Weke gaan verby sonder dat die polisie weer hul opwagting maak. Ons kla nie, maar ons bly versigtig. Laki het vir die caretaker by sy ou flat gesê hy gaan terug Griekeland toe. Hopelik het die caretaker dit vir die polisie gesê, maar het hulle dit geglo? Ons wag ongeduldig op my pa se brief. Elke aand bid ek dat my pa wit is en dat
hy dit nog kan bewys. Maar my pa skryf nie en ons kan nie langer wag nie. Ek bel hom weer. Hulle gaan roep hom. Jammer, hy is nie by die werk nie. Die volgende dag bel ek weer. Jammer, hy is nog nie by die werk nie. So gaan dit aan vir dae. Ek word meer mismoedig by die dag. Al persoon met wie ek my leed kan deel, is mevrou Soes. “Hoekom vra djy nie virrie Black Sash-mense om djou te help nie?” stel sy voor. Soos sy my aanraai, so maak ek. Ek praat met ’n mevrou Jackson wat geduldig na my luister. Sy raai my aan om eers al my feite bymekaar te kry. Ek móét met my pa praat, probeer om bewyse van hom te kry. It’s not that easy to be reclassified, sê sy, your reasons must be good, maar as daar ’n kans is, moet ek dit met albei hande aangryp. “Dis al wat ek vra,” sê ek, “net ’n kans.” “Good luck, Miss Peters,” sê sy vriendelik en druk my hand. Ek weet my pa probeer my vermy en ek vra ’n man by die werk om die oproep deur te sit. Hulle roep my pa en hy kom dadelik foon toe. “Hallo, Dadda.” Ek vra hom prontuit na die wit bloed. Is Dadda ’n wit man se kind? Sy stem word skielik baie sagter, hy fluister dat ek hom nou ’n groot ding vra, sê weer dis dinge van die verlede. Hy skop vas en ek trek. Ek moet weet. Nóú. Dadda sê ek moet aanhou, hy wil die kantoor se deur toemaak. Ek wag. Sy kantoormaat is nie vandag by die werk nie, sê hy, nou kan hy praat. Ja, sy pa was ’n wit man, my ouma Cape Coloured. “White as snow was jou oupa,” sê my pa, “met blue eyes nogal.” Die wit en bruin mense het naby mekaar gebly, en dis toe dat hy my mamma
ontmoet. Haar mense wou eers nie weet van die half wit klong wat wil kom kuier nie, maar nou ja, sê my pa, my mamma het hom ook gefancy. Dankie, Vader, sug ek. Dankie. Dankie. Dankie. “Wat het Dadda se papiere destyds gesê?” wil ek weet. “Hy het gesê wit, my pa was mos wit, maar ek het die papiertjie verloor. Toe apply ek vir ’n ander een, maar toe staan ek en jou mamma al op trou. Ek sê toe ek is Cape Coloured. Ek het nie gemind nie, want jou mamma is Cape Coloured, ek kon mos nie anders nie, verstaan jy?” Ek verstaan, sê ek, maar ek weet nie mooi wat ek verstaan nie. Ek en my dadda gesels lank, oor datums en plekke en name. Wat hy te sê het, is soos iets uit ’n Alfred Hitchcock-film. Jy hou asem op van bangheid en jou hart klop in jou keel. Sy pa was Jacobus Johannes Fourie, gebore 8 Januarie 1868, sy ma Anna Gerharda Bloemera Appels, gebore 13 Maart 1873. Ek hang aan Dadda se woorde, maar my kop draai met die aanhoor van al dié inligting. Fourie! Ek het al die jare geglo ons is Peters. My pa gee ’n kuggie. “Pettie, jy sien, die ding staan so: toe ek met jou mamma wou trou, was my pa nie tevrede nie, hy wou hê ek moet wit trou en wit bly. Anyway, by die polisiestasie verklaar ek toe: Ek is Willem Adrian Peters, gebore in Hopetown op 5 Februarie 1903, Cape Coloured. Ek wou nie my pa verder in die skande steek deur sy van te behou nie. Peters was die eerste naam wat in my kop gekom het.” Bloed druis in my ore, ek is stomgeslaan. “Besides, jou mamma was tevrede om mevrou Peters in plaas van mevrou Fourie te wees. Sy het gesê een naam is so goed as ’n anner. Jou mamma het ook wit bloed gehad. Eintlik Duitse bloed, van haar pa se kant, hy was Wernich, maar hy het haar ma gelos toe jou mamma nog ’n bybie was. Haar ma is kort daarna met ’n Kleurling getroud.” Hy skep asem en ek sukkel om als in te neem.
“Ag, my kind, dis dinge van lank gelede . . .” Die gehoorbuis gly in my hand soos ek uitslaan in sweet. Hoe is dit moontlik dat nie een van ons kinders iets hiervan weet nie? My van is Fourie in plaas van Peters, en ek het ’n wit man vir ’n oupa! Ek wonder of die anties ooit van dié dinge weet. Dadda sê hy het in 1954 die groen Identity Card gekry wat hom offisieel tot Kleurling verklaar. Ja, hy het nog ou dokumente van sy pa in sy besit wat bewys sy pa was wit. Ook my mamma se geboortesertifikaat wat sê haar pa is ’n Duitser. Ek kan dit kry as ek wil. Ek wil! Hy pos dit sommer vandag nog. Ek bedank hom en hy sê hy voel eintlik verlig dat ek nou “van dié dinge” weet. Ek ook, Dadda, ek ook. Nee, sê hy, die anties weet nie van die Fourie-Petersding nie, ek moet liewerster niks sê nie, ek weet hoe hulle . . . Agterna sit ek lank stil om eers aan als te herkou. Wat ’n deurmekaarspul! Die documents kom en ek gaan terug na mevrou Jackson met al my inligting. Sy is net so excited soos ek en wil baie dinge weet. Hulle sal die aansoek instuur. Ek moet geduldig wees. Daar is dinge wat die mense in Pretoria sal moet gaan opsoek, naslaan, dit sal ten minste twee maande neem voor ek iets kan hoor. “It is now beginning February,” sê mevrou Jackson, “maybe by end of March you will have your answer. You must be patient, my dear. I will pray for you.” Die aand staan ek op my knieë voor God. I can pray for myself.
Mevrou Soes staan op die deurdrumpel, haar bekommerde oë nog groter as gewoonlik. Sy trippel behoorlik toe ek nader kom. “Pettie, Pettie, ek is so bly djy is hier. Hulle was hier, kindjie.” “Wie was hier?” vra ek onnosel. “Die poelies. Hulle soek djou. Hulle vra baie vrae . . .” ’n Koue ysterhand druk my hart totdat ek voel nou gee ek die gees. Mevrou Soes
sit haar dik arm om my skouers en druk my teen haar vas. “Kyk, Pettie, as die poelies nou na my hys toe kom en questions begin vra, sal djy ’n plan moet maak, djy verstaan? Ek like dit nie, ek meen, ek is lief vir djou soos ek ok vir Doortjie was, ma nou dja, ek wil nie trouble hê nie, djy verstaan? Hierso bly baie anner meisies en hulle wil ok nie trouble hê nie, djy verstaan?” Ek verstaan. Ek verstaan. Ek moet trek. Vandag nog. My klere word haastig gepak, mevrou Soes het gou ’n kospakkie gebring. Maar waarheen? Ek het sleutels vir Laki se flat, maar ek weet nie of ek dit kan waag om soontoe te gaan nie. “Waar gaan djy bly, kindjie?” vra mevrou Soes, nog steeds bekommerd. Ek is nie seker of haar bekommernis oor my of oor haarself is nie. “Daar is baie flats, antie, ek sal een kry, moenie worrie nie.” Ek sal die kans moet waag om na Laki se flat te gaan, besluit ek. Dis ’n lang ent se loop en die tasse is swaar. ’n Blok van Laki se flat af staan ’n polisiemotor. ’n Man sit agter die stuurwiel. Hy kyk links en regs asof hy die plek dophou. Hulle wag vir my, dink ek. My arms is lam, my bene en voete seer geloop. Dis die een bangheid na die ander. ’n Jong konstabel kom uit die winkel gestap met ’n pakkie onder sy arm en klim langs die ander man in die kar. Die kar trek dadelik weg. Ek knyp my oë toe van verligting, hulle het net iets gaan koop. Skielik voel ek kwaad en opstandig. My enigste sonde is dat ek op ’n wit man verlief is, maar het ek dan nie ook witmensbloed in my are nie? Die kleur van my bloed is rooi, en joune, wit man? Is joune wit? My gedagtes maak my bang. Ek klim die fire escape op, stadig, een vir een. Kort-kort kyk ek om. My suitcases versteek ek onder Laki se bed. Dis al laatmiddag en hy sal enige oomblik huis toe kom. Ek weet hulle sal my weer by mevrou Soes gaan soek, en dan? As hulle my nie daar kry nie, wat dan? Hulle sal bly soek na ons, ek weet dit.
Ek hardloop die trappe twee-twee af tot onder. Ek kyk goed om my en stap dan uit op die sypaadjie. Oorkant die straat gaan staan ek styf teen ’n winkelvenster. Skaars ’n halfuur later kom hy. My mond gaan oop om na hom te roep, maar my moed begewe my. Vyf minute later volg ek hom. Op die trappe staan ek kort-kort stil en luister of iemand my volg. Sonder om te klop, sluit ek die deur oop en hardloop die gangetjie af en val in sy arms. My snikke kan tot in die hemel gehoor word en daar is geen troos vir my nie. Dit vat lank voor ek tot bedaring kom. Laki maak vir ons koffie en later braai ek vir ons iets in die pan. Elke voetstap en geluid laat ons na ons asem snak. “I have flat for you.” “For me?” vra ek verbaas. “Where?” “Here, number 22.” “Ag nee,” stribbel ek teë. “Hoe kan ek hier bly? As hulle my wel opspoor, is ek in nog groter moeilikheid omdat ek in ’n blanke gebied bly. Ek gee hulle rede om my op te sluit.” “Hulle sluit niemand! Ek skiet die rubbish!” Ek skrik vir die woede in sy stem. Hy sleep my saam na die caretaker. Ek het haar al gesien, ’n ou Griekse vrou wat alleen bly. Laki verseker my sy is ’n goeie vrou, maar ek bly agterdogtig en bang. Sy sê daar is wel ’n bachelor flat. Gaan betaal die deposit en jy kan dadelik intrek, sê sy. Die flat is groot genoeg vir my en lekker sonnig, maar hopeloos te duur vir my bruinmenssalaris. Ek help elke maand die anties met hul huur, hoe kan ek ’n flat ook nog bekostig? Ek moet darem nog eet. “Stop worry, I pay deposit and help pay rent,” belowe Laki. Hy troos weer: Hierdie keer as die papiere van Pretoria terugkom, sê hulle jy is wit en dan kan ons trou. “Life together not so expensive like one,” sê hy filosofies. “Moenie worry, moenie huil.” Ons spreek af om mekaar die volgende dag by die kantore te kry om die deposit
te betaal. “You had time off yesterday for urgent business, now you want time off again today, Miss Peters? It is asking a lot,” sê mevrou Droese. “What is wrong, are you having trouble?” Sy is ’n wit vrou, sy sal nie verstaan nie. Sy sal nie die noodsaaklikheid kan verstaan hoekom ek so haastig na die Black Sash-mense moes gaan nie. Ook nie hoekom ek dadelik ’n flat moet kry nie. “The time you take off today will be deducted from your salary at the end of the month. I am sorry, but if I allow it for one person, I must allow it for others.” Dis goed so, ek bedank haar. Laki wag reeds vir my by die estate agents. Ek vul die vorms in en “testify to the fact that I am a white person and I further declare that everything I filled in is the truth and . . .” “Nou kan hulle my nog in die tronk stop vir ’n valse verklaring ook,” sê ek later vir Laki. “Stop worry,” kom sy standaardantwoord, nou al holrug gery. Nou ja, dink ek, soos die anties altyd sê: In for a penny, in for a pound. Hier staan ek in my bachelor flat. Sonder bed of tafel. Nie eens gordyne voor die vensters nie en nog minder geld in die sak. Net ’n dak oor my kop, maar ek is dankbaar. Laki sorg vir als. My aandeel aan die uitgawes is power. Eers net die staalbed en matras en beddegoed, toe kantgordyntjies en later ook die kookpot en dik gordyne en nog later die tafel en stoele. Sy goedheid oorweldig my. Wat het ek ooit in my lewe gedoen om so ’n man te verdien? “Ag Heretjie,” bid ek, “laat hulle my wit maak, laat ek en Laki trou, asseblief tog, Here. Wees ons genadig. Ek sal nooit weer iemand soos hy kry nie.”
Mevrou Soes bel my by die werk. Daar is ’n brief van Dorie, wat moet sy
daarmee maak? Kom ek dit haal? “Soek die polisie nog na my?” wil ek weet. “Nei, hulle wassie weer hier nie,” sê sy. “Ek kom die brief haal,” sê ek. “Please be careful, my dear,” waarsku sy. Na werk loop ek Doornfontein toe. Mevrou Soes maak koffie en ek sluk dit gretig af. “My goodness, kindjie, maar djy lyk moeg en gedaan. Wat is dit? Die poelies?” Ek skud my kop. “Nee, nie die polisie nie, ek dink hulle het ons spoor verloor, of belangstelling in ons verloor. Ek weet nie, maar ek is net moeg tot in my siel van al die gesukkel. Al die geloop, al die gelieg en die gedurige benoudheid wat nie wil weggaan nie.” Ek skeur Dorie se brief oop en lees. Sy kom terug Suid-Afrika toe, maar net vir ’n rukkie, dan gaan sy weer oorsee. Sy verlang en ek moet mevrou Soes vra of sy die rukkie weer daar kan kom bly. Mevrou Soes is bly. Ja, sy kan maar kom, daar sal plek wees vir haar. Ek is minder bly. Ek sukkel om die anties en Laki uitmekaar te hou en nou nog Dorie ook. Berge val op my. Ek wil ingee. Laki luister na my gekerm. Ons vertel hulle alles, sê hy saaklik. Sê jou anties ons gaan trou, jy vra die white citizenship. En na die hel met wat hulle sê, is sy mening. “It is our life.” Daarmee reken hy is dit uit en gedaan. Ek skud my kop. Ek kan nie. “Why not? You go to hide? Always? And if you white, you hide also?” Ja, wonder ek, wat dan? Wat maak ek as die papier kom wat sê: Pattie Peters, jy is wit. You are now a first-class citizen. Veels geluk en hoera, hoera.
Sal ek nog my mense kan besoek? En ons kinders, sal ek hulle vat om vir hulle Tswana-ouma te gaan kuier? Ek het nooit kon dink dat die reality so vinnig kan insink nie. Dis tyd om ’n groot besluit te neem. Ek moes lankal die besluit geneem het, daardie eerste aand toe Laki vir my kom kuier het. “Sorry,” moes ek gesê het, “I am Coloured. Go away, leave me alone. Hou verby.” Maar ek het nie. Dis malligheid om te dink “alles sal regkom”. Dit kan nooit regkom nie. Nie een van ons kan die verlede of ons families uitwis nie. Dis nie net die law nie, dis ons self. Kleur is nie net skin-deep nie, dit lê veel, veel dieper. Maar my besef kom te laat.
Hoofstuk 11
Sondag gaan ek kerk toe, na die groot Anglikaanse kerk in De Villiersstraat. Die kerk is vol en my gemoed is swaar. My hart loop oor van die dinge wat ek God wil vra, maar ek weet nie hoe om dit in woorde te stel nie. Ek sak af op my knieë, my vingers inmekaar gestrengel. Ek lek oor my lippe en begin bid: Dierbare Here . . . Die woorde wil nie kom nie. Wat wil ek vra? Maak my wit? Wíl ek wit wees? Ek weet nie meer nie. Laat u wil geskied, bid ek. Dis die beste. Hy het verstand van dié goete, sou die anties gesê het. Ek stem. Die minister praat mooi. Hy lees uit Nahum. Ek luister aandagtig. “The Lord is slow to anger, and great in power, and will not at all acquit the wicked. The Lord hath his way in the whirlwind and in the storm, and clouds are the dust of his feet . . .” Ek voel die skaamte oor my kruip en prewel: vergewe my. Hy is in die warrelwind en die storm, en die wolke is die stof onder sy voete, en ek weet nie eens hoe om met Hom te praat nie. Is ek dan nie meer as net wind en water en stof nie? Dra Hy dan nie my belange op sy hart nie? Ja! jubel dit in my, ja! Aan my een kant sit ’n well-dressed lady in haar middeljare, aan my ander kant ’n swart man, geklee in ’n wit hemp en grys pak. Albei se hande is gevou in gebed. Ons is een. Ek sien Laki se gesig telkemale voor my, voel hoe sy hande oor my streel, hoor sy diep stem sê: God is love. Die minister draai na ons en sê: “Peace be with you” en hy vat aan ’n man se hande wat in die voorste ry sit. Die man strek sy hande uit na sy vrou langs hom, en sy weer na die kind langs haar, en die kind na die antie langs haar, af met die ry. Elkeen met die woorde “Peace be with you”. Dan die volgende ry. Die swart man in die grys pak draai na my, sy hande uitgestrek, sy oë grond toe gekeer. Dink hy ek is wit?
Ek vat sy hande styf vas en ons sê vir mekaar: “Peace be with you.” Hy kyk op en ons glimlag met mekaar. Ek vat die well-dressed lady se hande en sê weer die woorde. Ek voel die benerige hande met die baie ringe. Vir ’n oomblik kyk ons mekaar stip in die oë en glimlag. Ek voel goed. Almal in die kerk glimlag nou. Ons kniel almal saam, en nederig sê ons saam op uit die rooi boekie: “We do not presume to come to this, thy table, trusting in our own righteousness, but in your manifold and great mercies . . .” en toe moet ek veg teen die trane. Die liedjie wat ons sing, is ’n ou bekende: “Holy, Holy, Holy, Lord God Almighty.” Die wyn en brood word geseën. Ons beweeg vorentoe vir die Nagmaal. The Eucharist, word dit genoem. Saam kniel ons, saam buig ons die hoof. Die wafer-dun ronde skyfie brood word in my bakhand gesit. Dit smelt op my tong en my gedagtes bly by Laki. Ek drink uit die beker, die wyn proe soet. Dis die einde van die diens. Die Nagmaal is verby, almal is terug op hul sitplekke. Ou anties praat saggies met mekaar terwyl hulle wag om uit te loop en ma’s tel die kinders se jerseys op. Ons staan buite, maar nog is die mense traag om te loop. Hulle staan in groepies, gesels, lag. Ek word genooi om aan die sykant van die kerk van die soutigheidjies te eet en ’n koppie tee te drink. ’n Ouerige bruin vrou staan nader en gesels ’n bietjie met my. Sy nooi my vir middagete. Ek huiwer. “Kom eet saam met ons,” por sy my aan. Wat van Laki wat tuis op my wag? dink ek. Nee, sê ek, dis nie moontlik nie, maar baie dankie. Iemand wag vir my, ons het planne gemaak vir middagete. Op pad huis toe kyk ek na die bloeisels, dis asof ek die bome vir die eerste keer raaksien. Die son brand my wange en binne-in voel ek goed. Gelukkig. Die minister het gesê God is in die storms, in die wind, in die water, en die wolke is soos stof onder sy voete. Ek voel getroos. Hy weet van my probleem. Hy sal die uitweg stuur.
Ons hou piekniek by Zoo Lake. Laki gooi die groot kombers op die gras oop en pak die eetgoed uit. Hy het ’n stuk vleis in die oond gaargemaak, asook
aartappels. Ek sny die vleis en hy maak die bottel olywe oop. Ek kyk na hom. Sy vel is bruin gebrand en sy donkerbruin hare blink in die son. Vir my is hy die mooiste man wat ek nog ooit gesien het. Sy skouers is breed en sy hande sterk. Dis hande wat weet hoe om te werk, hoe om vas te vat en reg te maak. Hy druk ’n olyf in my mond en sy oë lag soos die eerste keer toe ons ontmoet het: hy het die voordeur vir my en Sotos oopgemaak en sy oë het gelag. Wat gaan ons maak? wonder ek stilletjies. Hoe gaan ek jou ooit prysgee? Sal ek jou moet prysgee? Wat sien jy in my, Pattie, die inkennige hakkelkind wat ná al die jare nog oor haar mamma treur? Met die jare het daardie Pattie verander, maar daar lê nog littekens op haar hart en vrae in haar gemoed. Sal sy ooit heeltemal vry wees van die hang-ups van haar kinderjare? Ons het klaar geëet. Die laaste bietjie wyn word stadig gesluk. “You like church today?” vra Laki. “Yes, I am very glad I went. Jy moet ook kerk toe gaan.” “Die church is business.” Ek kyk hom verbaas aan. “Ag nee, wat sê jy nou? Die kerk is God se huis en jy hoef niks te betaal nie.” Hy lag en ek lag saam. Dit klink so verspot. Jy is sinies, dink ek. “Ons trou in my kerk,” sê hy skielik. Nou lag ek hardop, maar ’n bietjie senuagtig. “Ek is nog nie wit nie, onthou?” Dis nou of nooit, dink ek, en ek pak die bul by die horings. “Ek het baie oor ons gedink die afgelope paar dae,” begin ek huiwerig. Hy kyk ver verby die wolke na die diep bloutes, sy kop op my skoot, ’n grassie tussen sy mooi tande.
“Ek dink ons moet dit ernstig oorweeg om tog ’n rukkie te skei.” Hy lag en kielie my onder die ken. “First we marry, then we skei, alright?” “Nee, man, ek bedoel . . . ons gaan weg van mekaar af, net vir ’n paar maande. Totdat ons heeltemal seker is, totdat ons alles goed deurdink het, maar weg van mekaar. As ons ná ’n tyd besef ons is nog lief vir mekaar en ons wil nog trou . . .” Hy sug hoorbaar en ek weet ons het reeds hieroor gepraat, maar ek wil weer praat. Hy sit regop. “Ek is seker. Ek dink klaar,” sê hy saaklik. “Laki, dink aan ons families. Die trouery raak nie net vir ons nie, maar vir hulle ook.” “Ek dink klaar. I love you, my family love you. Why you worry?” In die stilligheid wonder ek wie van sy familie my so danig “love”. Ek noem al die moontlike probleme wat kan opduik as ons getroud is, maar hy het ’n antwoord vir alles. Hy wil nie luister nie. Toe gebruik ek my laaste argument. “Sê nou ek wil nie . . . wit wees nie?” Die bruin oë met die lagplooitjies kyk diep in myne. Hulle spot met my. “You love me?” “Ja, natuurlik, maar . . .” “So, you want to be white!” Daarmee is dit uit en gedaan. In Laki se lewe is daar geen grys areas nie, geen hang-ups, no unanswered questions en geen verwyte nie. Hy gaan nie toelaat dat
’n kleinigheid soos ’n kleurverskil tussen ons kom nie. Verder voel hy vere vir die Suid-Afrikaanse wet wat sê wit en bruin mag nie trou nie. Nee, is sy antwoord, nee. Nee. Nee. Geen skeiding, ons bly saam, veg saam, wag saam. Moenie worry, sê hy vir die soveelste maal, beplan jou troudag, dit sal jou gedagtes besig hou. Wees gereed. Ek voel soos iemand wat oorlog toe gaan. “Wat gaan ons maak as Pretoria weer nee sê? Wat dan?” Hy word kwaad. Vir wat neul ek so? Ons moet geduldig wees. Ek het twee wit oupas, my pa is wit, ek is wit. Dink ek nie hy is ook bekommerd nie? Hy kan tronk toe, maar hy gaan uithou en aanhou, hoekom dan nie ek ook nie? Los al die sinnelose redenasies. Dink positief. Ons gaan trou, maak nie saak wat nie. Hy is baie lief vir my. Ek luister, maar ek wil nie hoor nie. Kyk, sê hy, as die white citizenship-papier kom, dan trou ons en gaan bly ver weg van vriende en familie, op ’n plek waar niemand ons ken nie. As dit nie anders kan nie, gaan ons Griekeland toe. Albei sy ouers leef nog, hulle sal ons met ope arms verwelkom, ons sal nie op straat sit nie. Ons begin van voor af. Dis immers ons lewe, ons het die reg om te lewe soos ons wil en waar ons wil. Laatmiddag gaan ons terug flat toe. Ons is nog nie uitgepraat nie, maar Laki wil nie meer nie en ek kan nie meer nie. Hoekom moet die man so hardkoppig wees? Ons gaan nie saam die gebou binne nie, eers ek en toe hy. Op die trappe hoor ek sy voetstappe agter my. Ek hardloop die laaste paar trappies op en gaan haastig om die hoek na my voordeur toe. “Pettie! Jy het gekom! Dankie tog!” My mond hang oop van verbasing. Ek kan my oë nie glo nie; ek gaap die vrou aan. In haar arms is ’n piepklein bybie. Sy kom vinnig na my aangestap. Laki se voetstappe is nou reg agter my, toe by my. Ek voel sy hand op my skouer. “You know her?” fluister hy vir my.
My arms gaan uit na my ousus. “Kay! Wat ’n verrassing. Wat maak jy hier?” Sy kyk vlugtig na Laki en steek ’n oomblik vas, maar ek loop vorentoe en druk haar teen my vas, maar saggies, want die bybie is tussen ons. “My Paulkie is dood, weet jy? In a car crash. Sommerso!” en sy klap haar vingers. Die trane loop oor haar wange. Ek wil troos, maar my trane loop ook. Die bybie begin kerm. Ek wys na Laki. “Dis Laki Pappasani. Laki, dis my suster Kay. Kom ons gaan in.” Laki se groet is onhoorbaar en Kay se groet is in ’n sakdoek versmoor. Sy snuit hard. Liewe Vadertjie, dink ek, wat nou nog! Laki loop nie, maar wag dat ek die deur oopsluit. Ek en Kay gaan sit op die bed en Laki sit op die enigste gemakstoel in die vertrek. Hy kyk na my, dan na Kay, dan weer na my. Sê tog iets! skree dit in my, maar hy bly stil. “Wanneer het jy gekom, en hoe?” vra ek toe Kay ’n bietjie tot bedaring gekom het. Paulkie se boetie bly nou in die Transvaal. Hy het Kaap toe gegaan vir die funeral en sy het saam met hom hierheen gekom. Hy het baie kinders en daar is nie plek vir haar en die bybie nie, toe kom sy na my toe. Sy is broke, sonder werk en nou nog die bybie ook. Sy weet antie Mona wil haar nie hê nie, ou mense hou nie van ’n bybie se geskree nie. Die anties leef van hulle pension en daar is nie plek nie. Sy wag al twee uur vir my. Die trane dreig om weer te rol. Laki het intussen die ketel volgemaak en aangeskakel. “Die water hy kook,” sê hy. Ek maak vir ons sterk tee en haal van die vleis en toebroodjies uit wat oorgebly het van ons piekniek. Kay is rasend van die honger en ryg die een toebroodjie na
die ander in. My arme ousus, dink ek. Die bybie se gekerm word al harder. “Die bybie is honger,” sê Kay en begin met die knope van haar bloes vroetel. Behendig word die geswolle bors uitgehaal. Laki sit sy koppie hard in die piering neer en staan vinnig op. “I go now. Goodbye. See you later.” Ons groet en hy is uit by die deur. “Wie is dit?” wil Kay weet. “Hy lyk mos wit. Werk jy vir hom?” Sy sit die tepel in die klein mondjie. Die bybie suig soos iemand wat dood van honger en dors is. Ek bekyk hom goed. Dis Paulkie se bybie olraait. Met my wysvinger streel ek oor die voorkoppie. “Hierdie is wit mense se flats,” sê sy. “Ek het die wit mense gesien kom en gaan. Kan jy hier bly? Is it allowed?” Nou is daar nie uitkomkans nie. “Ja, Laki is wit. Hy is ’n Griek, jy kon seker aan die aksent hoor. Hy bly ook hier. Die mense hier dink ek is wit.” Ek skep asem. Drop the bomb, dink ek, drop it now. “Laki is my boyfriend.” Sy kyk my geskok aan. “En wat as die poelies julle vang? Wat vannie Immorality Act? Julle sal tronk toe. Ek weet van ’n couple in die Kaap . . .” Ek knik my kop. Ek weet ook van baie couples. Ek vertel haar alles; sy moet weet. Ek het apply vir white citizenship, ek en Laki wil trou. “My sussie, jy is mal. Dis dangerous. Sê nou jy kry dit nie? Wat sê die anties?” Wat sê die anties? Wat sál die anties sê? wonder ek ook. Nou praat ek my hart uit, bly om met iemand te kan praat. Ek vertel van die waarskuwings van die polisie. Ek vertel van die wit streep in die familie.
“Ja, ek het geweet daar is ’n wit streep,” sê sy. Ek is verbaas, ek het gedink dis ’n groot geheim. “Ag nee, hoe kan dit dan ’n secret wees? Kyk na ons! Lyk ons soos jou everyday hotnot?” Ons lag lekker en skielik is ek bly Kay het gekom. Ek staan op en haal die stuk papier uit die laai. Stadig, dramaties begin ek lees, alles wat my pa my vertel het. Wat! skree Kay kort-kort. Dit kan nie wees nie! Hoe is dit moontlik dat sy niks van dié affêre weet nie? Hoekom is ons dié dinge nie eerder vertel nie? “My sussie, ek sê jou: this is the best-kept secret ever!” Sy dink ’n oomblik na. “So nou behoort ons nie meer aan die Peters family tree nie, maar aan die Fourie family tree . . .” Sy klink so verbaas en uit die veld geslaan dat ek begin lag. Toe lag ons albei. Ek vermaan haar om niks aan die anties uit te lap nie. Sy haal die bybie af van die een bors en sit hom aan die ander bors. Hy suig nog hard. Sy koppie is bedek met fyn swart donsies en sy vuisie is styf teen sy mamma se bors gedruk. Kay drink ’n tweede koppie tee. Sy wou laat weet van die geboorte, maar Paulkie was in die accident en sy het nie sover gekom nie. Hy was eers ’n paar dae lank unconscious en toe een aand, sommerso! en sy klap weer haar vingers. “Pettie, my sussie, jy moet my help, asseblief. Net tot ek ’n job kry. Ek sal alles terugbetaal, I promise. Miskien kan ek iewers ’n sleep-in kry, dan kan ek die bybie saamvat.” Haar oë swem in die trane. Sy kyk my pleitend aan. Ek knik. Natuurlik sal ek haar help, natuurlik kan sy by my bly. Maar binne-in dink ek: Liewe Heretjie, hoe gaan ek nog een onderhou? Die flat is groot genoeg om nog ’n lêplek te maak, maar waar gaan die geld vandaan kom? Waar gaan sy ’n sleep-in kry? Hier in Hillbrow is nie huise nie, net flats en besighede.
Dit begin donker word. Ons drink nog tee en ek voel nou ook honger. Ek sny nog van die oorskietvleis en sit dit op ’n bordjie. Kay gesels land en sand aanmekaar. Ek wonder stilletjies waarop en waaronder sy gaan slaap. Sy het ’n tas en ’n sak by haar gehad, maar geen komberse nie. Paulkie se broer het al die pad van die Kaap af gekla oor hoe swaar hulle dit het dat sy verplig gevoel het en gee hom haar laaste paar sent vir petrol, en toe ook sommer al die beddegoed wat sy by haar gehad het. Met so baie kinders het hulle dit seker nodiger, het sy geredeneer. Iemand klop aan die deur. Dis Laki. Hy dra twee komberse en ’n kussing, sit dit langs Kay op die bed neer. Sy voel met die agterkant van haar hand aan die sagtheid van die kombers. “You tell Kay we marry?” is Laki se eerste woorde. “Ja,” sê Kay voor ek kan antwoord. “Maar julle kan gevang worre. You must be careful. Julle moet mooi dink. This is South Africa, it is different from Greece.” Laki lyk vererg. Sy vertel hom nie iets nuuts nie. Hy groet weer. Ek vertel vir Kay hoe baie Laki my al gehelp het. Sonder sy hulp kan ek nie hier bly nie, dis te duur. Hy het ook gehelp met die meubels en gordyne se koop. Hy kry goeie geld. Hy is ’n goeie man, en baie lief vir my. Kay luister aandagtig, maar bly skepties. Sy haal haar skouers op. “Nou ja, my sussie, ek hoop alles kom reg vir julle. Julle moet net baie versigtig wees,” sê sy en voeg dan by: “Miss Fourie.” Ons dink nog steeds dis vrek snaaks. Nee wat, besluit ons, Peters is al wat ons ken en so sal ons bly. “Ons ís baie versigtig,” sê ek. Ek glimlag toe ek sien hoe moederlik sy die bybie hanteer. Sy is nie kwaad oor die witpapiere-ding nie, nie te veel geskok nie. Ek is nou baie bly sy’s hier.
Kay het die eerste week huisgehou. Sy kook lekker kos en die flat is altyd netjies en skoon. Sy was gedurig, aangesien die bybie min klere het. Laki sien hoe ek in
Kay se geselskap blom en hy is bly iemand anders ken ons geheim. Die tweede week begin sy in alle erns werk soek. Sy loop ver en uiteindelik kry sy strykwerk. Sy is ekstaties. “Ek gaan die ironing doen. By Mrs Brown en Mrs Levine, een keer per week. Hulle bly in dieselfde blok flats. Hulle betaal my R10 elk.” Gee my krag, dink ek, hoe gaan sy daarvan leef? Later besluit ek dis darem iets, en Kay is vasberade om nog werk te soek. Sy hou voet by stuk en loop elke dag straatop en straataf, ver van die huis, klein Faantjie op die rug vasgemaak, en klop aan elke deur. Sy kry nog strykwerk. Teen die einde van die week gee sy my ’n paar rand en hou ietsie vir haar en klein Faantjie. Kay is gelukkig. Sy bly by haar sussie, het ’n dak oor haar kop, kos op die tafel en klein Faantjie word vetter by die dag. Faantjie is eintlik Stefanus, na onse broer. Hy regeer omtrent die huis en ons is almal gek na hom. Laki dink hy is ’n “beautiful baby” en speel graag met hom. Naweke neem Laki ons na die anties toe. Ons word tot by die stasie geneem en loop dan die een blok tot by die anties se flat. Op ’n bepaalde tyd kom hy ons weer haal. Die anties het hom nog nie gesien nie. Ons moet eers wag vir die witpapiere, het ek hom gesê, die anties sal nie verstaan nie. Hulle moenie nou al van jou weet nie. Maggie slaan ’n djoppie los, soos sy dit stel, by ’n Indiër-café, net vir ’n paar uur op ’n dag. Die geld is min, maar dis ligte werk en die paar rand stop ’n gaatjie toe, reken sy. Ek laat my bydrae aan die anties ’n bietjie krimp en dit laat my skuldig voel. “Nei, ons blame djou nie,” verseker Kitty my. “Djy is djonk en moet die geldjies save virrie klong. Trou is expensive en djou mamma lê in haar graf en djou pa is ver. Maggie kan nog werk, ma ek kan nie meer nie. My bene willie staan nie. Kyk hoe staat die veins. Djy moenie meer help met die huur nie, it’s not necessary, Maggie kry genoeg. Anyway, djy kom nooit met leë hande nie. Dankie virrie smokes, ons kan dit skaars afford, dit word nou so expensive.” Kitty steek nog ’n sigaretjie aan. “Dja, nou sit djulle nog met djou suster en dié se bybie ok,” sê Maggie. Die anties dink ek bly nog by mevrou Soes. Ek het hulle nie vertel dat ek nou in
Hillbrow bly nie. “Sy moes by Wil en Mona gaan bly het, ma hy wil mos yt sy djaart trou. Die nuwe vrou sal haar nie vat nie,” skinder Maggie verder terwyl Kay badkamer toe gaan. Ek wens sy wil liewer niks sê nie. Kay help baie in die flat en ek is dankbaar vir haar geselskap. In die begin was ek bang vir klagtes van die flatmense oor Kay en Faantjie, maar hulle dink seker sy werk vir my. Saans gaan sy nie uit nie en niemand weet sy slaap daar nie.
Pretoria sloer steeds. Ek gaan weer na Mrs Jackson by die Black Sash om te hoor of sy enige nuus vir my het. “Just be patient, my dear,” sê sy. “The confirmation will come, we must just be patient and wait.” Dis makliker gesê as gedaan, sê ek vir haar. Sy glimlag en vryf oor my arm. As mens so jonk is, wil jy alles nóú hê, sê sy, maar hierdie soort ding loop op sy eie pas en vat sy eie tyd. Wees geduldig. Ek en Laki is nie meer so versigtig nie. Ons is seker die polisie het ons spoor verloor. Partykeer werskaf ek saans laat nog in sy flat of ons sit sommer en luister plate. My hoofpyne is iets van die verlede en ek begin rustig voel. Maar soms word ’n mens lelik ontnugter.
Hoofstuk 12
Laki het my al vertel van Panos. Hy wil hê Laki moet met sy oudste dogter trou. Die jongste staan op trou en dis nie geoorloof vir die jongste om voor die oudste te trou nie. Voor Laki my ontmoet het, was hy ’n paar maal by Panos se huis, maar hy het nooit die dogter uitgeneem nie. Laki sê die ou man is ’n moeilike mens. Op ’n keer het hy sy humeur verloor oor iets wat sy vrou gedoen het en toe ’n mes gegryp en gedreig om haar keel af te sny. Wie wil nou so ’n mal skoonpa hê? het Laki gelag. Maar die ou man is skatryk en het ’n huis as príka beloof aan die man wat met sy dogter trou. Hy wou weet of Laki ’n girl het. Nee, het Laki gesê. Nou vat my dogter, die príka is goed. Ek is nie gereed vir trou nie. Kies jou huis, ek sal betaal. Ek is nie gereed nie. Een aand klop iemand saggies aan Laki se deur. Ons sit in die sitkamer en luister plate. Ons weet dis nie Kay nie, sy het ’n spesiale manier van klop sodat ons moet weet dis sy. Laki kyk deur die loergaatjie. Dis Panos. Hy maak oop. Panos kan my sien sit, maar hy groet nie. Hy en Laki gesels. Tien minute later is die ou man weg. “He wants quotation for work. I go tomorrow,” sê Laki ter verduideliking. Hy glimlag. “His daughter still no marry,” sê hy en ek lag. “Sy wag nog vir jou.” “Not any more. He see you.”
Ek staan op om te gaan bad, die warm water in my flat loop te stadig. Laki begin koppies was. Ek draai die kraan oop en begin uittrek. Iemand klop weer aan die deur, dié keer hard en dringend. Laki maak die deur haastig oop. Nou word daar nie Grieks gepraat nie. “Where is the Coloured girl?” bulder ’n manstem. “Is nobody here. What you want?” Help my, Heretjie, bid ek. Help ons. Help ons. “Kyk in die kaste, Jordaan, sy is hier.” Die badkamerdeur staan effens oop en ek sien die uniform nader kom. Ek gryp na die handdoek, maar voor ek nog behoorlik kan toemaak, word die deur oopgestamp. “She’s not here, you say!” roep die polisieman oor sy skouer na Laki. “Who is this, then? Kyk hier, sersant.” Sersant kom kyk. Hy glimlag en lyk selfvoldaan. “She is woman, you come out. I feel shame for you,” sê Laki en ek sien hy is bleek van woede. Ek hoor die effense bewerigheid in sy stem. “Feel shame for yourself! You are under arrest and so is she.” Hy bekyk my nog ’n maal waar ek agter die handdoek probeer skuil, my voete steeds in die badwater. Ek voel soos ’n moordenaar, maar weet nie wie ek vermoor het nie. Sy oë bly op my. Die sersant bekyk my ook. “Wat is jou naam?” vra hy. “Patricia Peters, meneer.” “Trek aan. Gou!” Hy maak nie die badkamerdeur toe nie, loop net so uit. Laki kom trek die deur toe en kyk my ’n oomblik verslae aan. Tien minute later sit ons albei in die vangwa.
“Don’t worry,” troos Laki. “Don’t cry. We kill nobody.” Ek kan sien hy is smoorkwaad. Sy lippe is saamgepers en sy hande gebal. Met my vingerpunte druk ek op my oë om te keer dat die trane vloei. Laki vryf oor my rug, praat sag met my. Don’t worry. Die vangwa draai links om die hoek en ons sien die ou man staan. Laki druk sy neus omtrent teen die draadvenster om beter te kan sien. “Panos! He call police. The pig, I find him, I kill him.” Dis alles so voorspelbaar, dink ek. Dit moes vroeër of later gebeur het. By die aanklagkantoor sit ons voor ’n suurknol. Nog ’n polisieman staan langs hom. Hulle bekyk ons, van kop tot tone. Julle is moordenaars, sê hul oë. Hang ons op! wil ek skree, maar bly eerder stil. Wees onderdanig. Ja, meneer, nee, meneer. Ja, baas, nee, baas. Laki wil nog redeneer, maar die suurknol wil niks weet nie. “You keep quiet,” sê hy vir hom. Hy vra dit, hy vra dat. Laki is kortaf en die man word ongeduldig. Laki is onbeskof en die man skree op hom. Mense kom in en mense gaan uit. Hulle staar na ons en hulle weet: Immorality! Die man gluur my aan. “Ja? Het jy iets te sê? Jy weet van die Immorality Act? Hy is ’n uitlander, maar jý ken die wette van die land.” Hy lig sy wenkbroue en kyk my vas in die oë. Ek kyk terug, maar my lip bewe. Ek ken die wette van die land, erken ek onderdanig, soos een wat uitgevang is. “Jy ken die law?” vra hy weer, asof ek die eerste keer nie verstaan het nie, asof hy my die eerste keer nie gehoor het nie. “Ja, meneer.” “Nou hoekom doen jy nie soos die law sê nie?”
“Meneer, ek het aansoek gedoen vir white citizenship.” “En? Het jy al iets gehoor?” “Nog nie, meneer, maar die antwoord moes al gekom het.” “Dan is jy nou nog ’n Kleurling?” “Ja, meneer.” “Al is die man ’n immigrant, ’n Portugees of wat ook al, word hy nog steeds as wit geklassifiseer.” “Hy is ’n Griek, meneer.” Hy sug, krap in die boek voor hom. Skielik voel ek duiselig, ek is bang ek val van die stoel af. Ek klou die kante van die stoel met sweterige hande vas en knip-knip my oë om die wasigheid te verdryf. “Dieselfde ding,” brom die man. “Hy is ’n uitlander. By wie het jy aansoek gedoen vir herklassifikasie?” “Ek was by die Black Sash, meneer. By mevrou Jackson. Hulle kantore is in die stad, meneer. Al my papiere is by haar.” “Jy word daarvan aangekla,” gaan hy voort asof hy glad nie hoor wat ek so pas gesê het nie, “dat jy onwettig in ’n blanke gebied woonagtig was, en verder word jy daarvan aangekla . . .” Onderdanig. Onderdanig, Pattie. Ja, meneer. Nee, meneer. Ek verstaan, meneer. Dis Aprilmaand en ek voel koud en bewe behoorlik. Voor ons uit die flat is, het die konstabel my gevra of ek iets uit die flat wil hê om saam te neem. “Nee,” het ek gou gesê, “niks.” Kay en Faantjie is in my flat, hulle sal haar ook wegvat en opsluit. Hulle dink ek bly by Laki. Dis goed so, hulle weet nie van my flat nie. “Die diener gives no reasons, hy draai die slytel innie slot en da sit djy, ou pel,” het oompie Spykers op ’n keer gesê. Nogmaals ja, meneer. Nee, meneer. Ek verstaan, meneer.
Pateties en verslae kyk die immigrant en sy meid mekaar aan. Die man het gesê: hy’s ’n uitlander, maar jý ken die wette van die land. Die jare val weg en skielik is ek terug in my Afrikaansklas. Meneer Leggett Jurgens het sy Afrikaans geken, ook sy Hollands. Ons lees uit Frederik van Eeden se De Kleine Johannes, en Pluizer se woorde weerklink in my ore: “O, domme Johannes! Als een kindermeid een onnoozel kind met vuur laat spelen en het brandt zich, wie heeft dan schuld? Het kind dat geen vuur kende, of de meid die wist dat het kind zich branden zou?” Laki, is alles net my skuld? snik dit in my. Verwyt jy my? Het jy nie ook geweet jy speel met vuur nie? Jy hét geweet. Jy het gewéét! ’n Vrou kom my haal. Sy vat my liggies aan die arm en lei my in ’n lang gang af. Ons voetstappe weerklink op die sementvloer. Ek loop kop onderstebo, ek voel nog duiselig. Die vloere blink, selfs die mure blink. Ek dink aan my anties. Wat sal hulle sê as hulle weet? Wat sal my mamma sê as sy weet? Haar jongste opgesluit soos ’n krimineel . . . Ek sien die sel en die slapende figure onder grys komberse. Almal bruin spoke. En nou is ek een van hulle. Die polisievrou stoot my effens vorentoe, dan draai sy die sleutel . . . “en da sit djy, ou pel!” Soos ’n verdoemde staan ek met die grys kombers onder my arm. Die man het gesê: “Môre gaan jy hof toe, dan vertel jy jou storie. Vanaand slaap jy hier.” “Mevrou,” sê ek haastig toe sy omdraai om te loop, “ek voel naar en duiselig, mevrou.” Sy staar my ’n oomblik aan. Ons kyk mekaar vas in die oë. Diener en donner. “Wil jy opgooi?” vra sy saggies. “Dit voel so, mevrou.” “Daar is ’n emmer in die hoek, gebruik dit.” “Ek voel regtig baie siek.”
Sy sug hoorbaar. “Dis nou baie laat. As jy môreoggend nog so sleg voel, neem ons jou dokter toe, alright?” Sy aarsel. Kyk weer na die patetiese figuur met die kombers onder die arm, gee dan bietjie skiet. “Ek sal vir jou twee Aspro’s bring, miskien help dit so ’n bietjie.” “Dankie, mevrou.” ’n Bietjie genade. Ek vat aan die tralies voor my om te keer dat ek omval, ek voel so bewerig. Ek skrik, die tralies is yskoud. ’n Paar minute later bring sy die pille en ’n bietjie water. Ek is dankbaar. “Probeer ’n bietjie slaap,” sê sy saaklik en draai om en loop in die lang gang af. Ek kry ’n lêplekkie, gooi die kombers oor my skouers en knyp dit onder my ken vas. Die bewerasie en naarheid bly. Die ander figure in die sel beweeg ’n bietjie en ek voel hoe hulle vir my kyk. ’n Swart vrou praat saggies, maar ek kan nie verstaan wat sy sê nie, iets van die dompas. “Nee,” sê ek, “dis nie die nie.” ’n Ander stem praat. Sy en die donnerse ou man het baklei, toe bel iemand die police. “Die blerrie mense. ’n Mens kan nie meer in djou eie djaart fight nie. Wat het djy gedoen?” wil sy weet. Haar woorde sleep en ek kan die drank ruik. Ja, dink ek, wat het ek gedoen? Ek het ’n man liefgekry. Dis al. Ek mompel iets van ’n wit man. “Oe-la-la, hulle gaan djulle bêre, my dingetjie. Siestog.” Hulle gaan julle bêre. Dis vreeslik. Dit voel asof ek bloedskande gepleeg het. My neus begin gewoond raak aan al die vreemde reuke en ek laat my kop op die matrassie sak. Met die punt van die kombers vee ek my trane af. Waar is jy, Laki? Saam met wie is jy opgesluit? Wat dink jy? Wat voel jy? Is dit nog steeds die moeite werd om ’n meid lief te hê? God is love, het jy gesê, maar
waar is die liefde in die sel? God, wees my genadig, bid ek. Die vrou praat weer met my, maar ek kan nie antwoord nie. Die naarheid bly in my keel vassit. Ek is te siek om ’n woord uit te kry. “Waar is die emmer?” vra ek saggies. “Daar innie corner, sweetheart.” Ek loop gebukkend na die hoek, die kombers nog styf om my skouers getrek. Ek buk laag oor die emmer, maar die reuk wat in my neusgate opslaan, laat my steier. Ek druk my neus haastig toe en strompel terug na my lêplek. Ek haal vinnig en vlak asem om te keer dat ek opgooi. Uiteindelik oorrompel die moegheid my en ek is dankbaar vir die donkerte en ontvlugting van die slaap.
Vroeg die volgende oggend staan ek voor ’n ou man. Sy dik bos hare is grys en deurmekaar, sy wenkbroue soos bossies en sy oë waterig. District Surgeon. So staan dit op sy deur. Hy beduie ek moet sit. Die polisievrou staan eenkant. “Wanneer het die naarheid begin?” Ek antwoord en hy skryf. Hy vra nog en skryf weer. Ek trek uit en gaan lê op die bed. Hy neem my bloeddruk. “Dis laag,” sê hy, “daarom is jy so dronk in die kop.” Die polisievrou hou my dop en ek kry skaam. Ek wil die laken optrek om my kaal lyf te bedek, maar hy druk op my maag, voel aan my borste. Hy vra en ek antwoord. Toe weet ek. En ek sidder. Dis nie nodig vir die dokter om dit te sê nie, maar hy gaan my dit nie spaar nie. Dis immers sy werk. “Jy is swanger.” Sy dik vingers voel-voel weer aan my. Ek kyk na die krake in die muur langs my kop. Die trane dreig om te loop en ek sluk.
Jy’s ’n meid, jy’s ’n meid! Jy word weggesmyt! En nou’s jy met die lyf. Kroes kalf, kroes kind, Waar gaan jy jou vrede vind?
“Verstaan jy?” vra hy. Ek knik. Ek verstaan. Die Bybelse hoer is met die lyf, die tronk is haar straf. Maar dis jóú law wat van my ’n hoer gemaak het! dink ek bitter. My mond proe sleg en my lyf stink. Soos iemand in ’n droom trek ek my klere aan. Die dokter gee my twee pille en ’n bietjie water. Ek sluk een, dan nog een. Hy gee ’n koevertjie aan die polisievrou. “Twee ’n dag,” sê hy en gee dan nog ’n koevertjie, “een ’n dag.” Die ondersoek is verby. “Veels geluk met die bybie. Koebaai.” Die vangwa staan gereed en ’n polisieman maak oop. Binne sit twee ander. “Wat makeer, ousie?” “Shame. Het djy iets gakry?” “Wat sê die dokter?” “You pregnant, sweetheart?” Ek bid dat die pille hulle werk sal doen en die naarheid en duiseligheid wegvat. Ek laat my kop op my knieë sak. Dis hoe dit voel om dood te gaan, dink ek. Is dit hoe my mamma ook die aand in die hospitaal gevoel het? Sy het opgegee en is dood. Nou wil ek ook opgee, maar die deur word oopgeruk en ons word beveel om uit te klim.
Ek sit in die hof saam met al die ander. Die bank is hard en koud. Wat dink Kay? wonder ek. Sy het ons seker al gaan soek by Laki se flat. Sy sal weet, besluit ek. Die magistraat kom binne en ons staan. Hy sit en ons sit. ’n Naam word uitgeroep en iemand beweeg vorentoe. Die vrou het nie ’n pas gehad nie. Vyf minute later is dit nog een. Sy het in ’n area gewerk sonder permissie. Vyf minute later nog een. Misdadigers. Almal van ons. Dié een het baklei met haar man, daai een is sonder die boekie. Die konstabels gee die evidence en ons is guilty as charged. Pasop nou vir die volgende keer. Wat sal hulle van my sê? “Sy was in die wit man se bad, Your Honour. Kaal.” Your Honour sal snak na sy asem. “Niks minder as die doodstraf nie,” sal hy sê. “Bid jou dit aan! Kaal in ’n wit man se bad!” ’n Man kom haastig in, fluister iets vir die magistraat en stoot ’n paar velle papier voor hom in. Die man lees en hulle praat saggies en ons wag. Die magistraat kyk na ons groepie wat nog sit en wag om ons misdade aan te hoor. Die polisieman kyk ook. Ek herken hom. Hy is een van die twee wat by die flat was. Die mans kyk asof hulle na ’n gesig soek. Ek maak my oë toe. Die naarheid het ’n bietjie gesak, maar ek wens tog ek kan ’n bietjie gaan lê, verkieslik op my eie bed. Ek dink aan Laki en wonder of hy ook êrens voor ’n magistraat sit. Ek bid dat hy nie te opstandig sal wees nie. Sluit my op, bid ek, maar los hom. Hy is goed, hy verdien nie om gestraf te word nie, en hy verstaan nie die landswette nie. Ek is die hoer, straf my! Maar toe onthou ek Ragab en ek skep moed. “Wie is mejuffrou Patricia Peters?” vra iemand hard. Ek skrik. My hand gaan outomaties op. “Dis ek.” Die ander kyk my aan. Hulle oë is vol bejammering. My lam bene ruk my orent. Sê hulle nou jou oupa was wit, jou pa is half wit. Sê hulle. Maar die woorde sit vas. My hart klop in my keel. Wat nou? “Kom saam met my, asseblief,” sê die konstabel en wys ek moet vooruit loop, deur toe. Ek is verward. Gaan hulle my nou sonder ’n verhoor opsluit?
My oupa was ’n wit man, weet jy? skree dit in my. Ek kyk oor my skouer na die mense wat nog sit en wag. Bruin spoke sonder defence, criminals without rights. People without a voice. Hulle kyk terug, party glimlag flou, hul oë steeds vol bejammering – vir my! Die konstabel neem my na ’n motor en soos ’n skaap op pad na die slagpale volg ek hom, geluidloos, gehoorsaam. Agter die stuurwiel sit ’n jong man, ook in uniform. Die konstabel maak die deur vir my oop. “Klim in, juffrou,” sê hy. Juffrou? Ek staar die man aan. Waar is die vangwa? wil ek vra. Waar is Laki? wil ek vra. Maar ek vra niks en hulle sê niks. Ons ry deur besige strate. Hulle sit voor en ek sit agter. Ek sluk swaar om die trane te bedwing. Voor die polisiestasie hou die motor stil. Ek word teruggevat aanklagkantoor toe. Ag, liewe Heretjie, dink ek, hulle het Kay gevang! “Juffrou Peters,” sê die man agter die lessenaar, “u het aansoek gedoen vir herklassifikasie, nie waar nie?” Ja, maar ek het dit mos al gesê. My oupa was ’n wit man, het jy geweet? Maar ek sê niks, knik net meganies. In sy regterhand hou hy ’n paar velle getikte papier vas. Hy probeer glimlag, maar kry dit nie mooi reg nie. “Veels geluk, jou aansoek is goedgekeur. Jy is nou ’n wettige blanke persoon. Hier is jou dokumente. Bewaar dit. Ons is baie jammer vir die ongerief, maar u sal verstaan ons kon nie anders nie. Ons doen net wat van ons verwag word . . .” Teken hier. Teken daar. Dankie. Jy is ’n blanke persoon. Tot siens. “Daar is ’n man saam met my aangekla . . .”
“Hy is ook vry. Hulle soek hom nou by die hof.” Hulle neem my huis toe, hou die motordeur vir my oop, noem my juffrou. Ek is nog oorbluf. Gister was ek bruin, vandag is ek wit. Net so. Gister was ek gevloek vir ’n meid, vandag noem hulle my juffrou. Gister het hulle my in ’n vangwa gegooi, vandag ry ek in ’n polisiekar en hulle hou die deur vir my oop. Net so.
Kay wag vir my. Ons val in mekaar se arms. “Ag, my sussie! Wat het gebeur?” Ek vertel haar. Ons vee trane af. “Donnerse vuilgoed,” sê sy. Sy het so iets vermoed en het toe besluit om in die flat te bly ingeval ek opdaag. “En nou? Wat nou?” Ek wys haar die papiere. Ons lees elke woord. Sy lag en ek lag. Ons druk mekaar styf vas en vee weer trane af. “Ek hoop nie jy mind dat jy ’n meid vir ’n sussie het nie?” terg sy. Ons lag en Faantjie lag saam. Iemand klop aan die deur. Ek staan op om ’n trui te gaan haal, ek kry steeds koud. Kay gaan maak oop. Dis Laki. “She’s white!” skree Kay nog voor Laki ’n voet oor die drumpel kan sit. Sy gryp die papiere en druk dit onder sy neus. “Pettie is now white!” Hy steek sy arms na my uit en ons klou aan mekaar vas. Ek voel sy steekbaard teen my wang, ruik sy sweet. “Now we marry.” Dit neem ’n rukkie voor ons almal tot bedaring kom. “Ek moet na mevrou Jackson toe gaan, haar gaan bedank,” sê ek. Laki wil eers
bad en aantrek, maar ek wil dadelik gaan. Ons laai Kay af by haar werk en ry stad toe. Mevrou Jackson lag toe sy my gewaar. Sy skud eers my hand, toe omhels sy my. Ja, sê sy, die polisie was by haar en wou weet van die aansoek. Sy het die dokumente die vorige dag al gekry, maar kon my nie in die hande kry nie. Het die mense by die werk nie vir my gesê sy het gebel nie? Jou hele familie moet nou aansoek doen, sê sy. Ek bedank haar. Ek en Laki gaan huis toe, bad en trek aan. Laatmiddag daag ek by my werk op. Mevrou Droese luister aandagtig. Ek verduidelik dat ek nie meer daar sal kan werk nie. Dit sal snaaks voel vir my en ook vir die ander mense. Sy stem saam; dis beter dat ek bedank. Ek kan dadelik gaan. Sy gee my die naam en adres van ’n ander firma wat ’n tikster soek. Die geld is goed. Sy sal dadelik skakel en my aanbeveel. Ons skud hand en sy wens my alles van die beste toe. Hulle sal die geld wat hulle my skuld pos, sê sy. Buite trek ek die trui uit. Ek kry skielik baie warm.
Hoofstuk 13
Ek is net twee weke by my nuwe werk toe Dorie in Suid-Afrika land. Dis amper ’n volle jaar sedert sy oorsee gegaan het. Sy daag by die anties in Newclare op; sy en die anties het gereeld vir mekaar geskryf. Sy vertel die anties ek is nie meer by mevrou Soes nie. Ek is glo lankal daar weg, mevrou Soes weet nie waar ek is nie. Die anties is verbaas. “Waar is Pettie dan?” wil hulle weet. Dorie kuier weer by die anties toe ek en Kay die Saterdag daar opdaag. Sy lyk goed en vertel ons baie dinge van oorsee. Die geld is goed daar oorkant, maar haar kontrak is nou klaar. Na sy ’n rukkie hier gewerk het, gaan sy weer oorsee, terug Engeland toe, sê sy. “Jy lyk anders,” sê Dorie. “Jy het ’n bietjie vet geword. Lyk my die lewe hier doen jou goed.” Ek lag. Eintlik wil ek huil. Wat moet ek sê – ek is met die lyf? Dis ’n wit man se kind? Ons drink tee en eet Marie-biscuits gesmeer met botter. “Ons hoor djy is weg van mevrou Soes af? Ma djy sê ons niks!” verwyt Maggie. “Nee, wat, die area is nie so goed nie. Die bure suip en lol. Ek is bang om alleen daar te loop,” lieg ek glad. “Waar bly djy dan?” wil die anties weet. Ek sluk. “In Hillbrow.” “Maar . . . Hillbrow is mos wit,” sê Dorie effens verbaas. “Wat! Bly djy nou same met die wit mense?” vra Kitty geskok. “Is daar flats in Hillbrow waar die bruin mense mag bly?” wil Dorie weet.
“En jy?” vra ek vererg. “Bly jy dan nie ook saam met die wit mense nie?” “Maar dis Engeland. Hierso word mens opgesluit as . . .” “Luister, ons is satisfied, niemand complain nie. Moenie jy kom staan en krap nie. Ons bly lekker en ons is gelukkig,” sê Kay kortaf en probeer die gesprek in ’n ander rigting stuur. Maar die anties is nog lank nie klaar nie. “Dis all very well dat djulle so boetie-boetie met die wit mense bly, maar sê nou die poelies hoor dit en sleep djulle tronk toe? En djy, Kay, djy is ouder as Pettie. Djy moet bieterder wiet as sy. Worre djy nou ok wit oorlat djulle in Hillbrow –” “En hoekom nie?” kap Kay ewe voorbarig terug. “Albei onse oupas was wit mans. Kyk na ons. Lyk ons nie ook wit nie? If it means ek kan ’n wit man kry wat vir my kan sorre en ek kan enige plek bly sonder dat iemand my wegja of vloek, nou ja, dan wil ek wit wees!” Die anties kan hul ore nie glo nie, Dorie nog minder. “Ma djy is alte orig! Wit oupa ofte not, djulle is nog classified as mixed. Djulle ma was ’n bruin vrou, of vergiet djy nou? ’n Plain washer woman wat oor die wit mense se baddens gebuk het met die bybie oppie rug. Djulle moet liewer try om soos sy te wies, en nie so baie worrie oor djulle pa nie!” “Is jy seker, was ons oupas wit?” vra Dorie dood van verbasing. “Hy sit met ’n meid wat eers met die geloep het!” hou die anties vol. “Daar’s niks met onse pa verkeerd nie!” kap Kay terug. “Mamma se pa was ’n Duitser, kan jy dit glo?” sê ek vir Dorie. “Ek het nooit gedink Mamma het wit bloed nie, ons pa miskien . . .” Die anties is woedend, Kay skree. Dorie begin histeries lag. Ek sluit my oë en ore vir die stryery. Dinge van lank gelede kom in my gedagtes op. Dae wat ek saam met Mamma werk toe gegaan het. Dan buk ons saam oor die bad en vryf ek kamma ook die
wasgoed, maar speel eintlik net met die lekker seepskuim. Na alles gewas is, moet die wit lakens en kussingslope in blousel gesit word. Mamma gooi die blousel versigtig in. “Mens gooi nie te veel nie,” waarsku sy, “anders is die wasgoed heeltemal blou en mevrou kwaad.” Later word die lakens oor die lyn gehang en as hulle amper droog is, word hulle oor die gras gesprei om plek te maak vir die ander wat opgehang moet word. Dan kom mevrou en tel elke stukkie wasgoed. ’n Pennie vir dié, twee pennies vir daai. Mevrou tel op haar vingers, maar my mamma het reeds vir my gesê hoeveel sy gaan kry. “Ek reken dis ten shillings en five pennies. Is dit reg, Nel?” “Ek reken ook so, mevrou,” sê Mamma. Sy vryf oor my kop en ons glimlag vir mekaar. Sy het reg gereken. Nou sit ek in Kitty en Maggie se flat, maar ek ruik my mamma se seephande en voel hoe streel sy oor my hare. Uiteindelik kom almal tot bedaring. ’n Stilte sak oor ons. Dis tyd om te gaan, besluit ek, sonder dat ek die anties gesê het van die witpapiere of van Laki. Kay tel vir Faantjie op. Dorie maak nou ook reg om te loop. Ek en Kay kyk na mekaar. Ons weet Laki wag vir ons. Dorie dink ons het met die trein gekom. “Ag, bly jy nog ’n rukkie,” sê Kay vir haar. Nee, dit word laat, sy gaan sommer saam met ons. Ons groet. Wat nou? dink ek. Ek en Kay loop sleepvoet. Ek sien Laki se bakkie in die verte. Dorie loop nog praat-praat en ek voel hoe die sweet op my lyf uitslaan. Kay sê niks, maar sy loer kort-kort my kant toe. Ek loop reguit na die bakkie toe. “Waar gaan jy nou?” wil Dorie weet.
“Na my wit boyfriend toe. Dis hy wat daar wag. Die anties weet nie van hom nie. Hy is ’n Griek en ons gaan trou. Ek het aansoek gedoen vir white citizenship en Pretoria het ja gesê. Jy kan ook aansoek doen as jy wil.” Dit alles in een asem. Dorie kyk my sprakeloos aan. Laki klim uit en groet vriendelik. Ek stel Dorie aan hom voor. “Jy is vol surprises,” sê Dorie en kyk vir my terwyl sy Laki se hand skud. “Ek is skaars landuit en jy word wit en kry ’n kêrel,” sê sy kopskuddend. “Jy moet my alles vertel.” “Ek sal jou alles vertel,” sê Kay. “Kom, klim op.” Kay en Dorie gaan sit styf teen mekaar agter op die bakkie. In die truspieëltjie sien ek hoe lustig die twee susters gesels. Ek wonder wat Dorie vir Kay sê, wat sy dink. “No matter what she think,” sê Laki skouerophalend. Dorie sal nie te geskok wees nie, sy bly dan ook met die wittes daar anderkant. Ek het haar nie uitgevra oor haar doen en late daar ver nie. Laki is bly dat Dorie van ons weet. “Dorie is pretty,” sê hy. “Jy sê die anties ?” Ek sal nog. Ek hoor sy sug. “Your sisters must apply. Pretoria will say yes. Dorie look very white.” Ek stem saam, maar praat nie verder nie. Ek dink aan sy “Dorie look very white”. As wit die enigste maatstaf is waaraan almal gemeet word, kan ek aan baie dink wat nie op die Whites Only-trein kan ry nie. Ek wonder ook in my enigheid of Dorie net vir hom pretty is omdat sy white lyk. Die naarheid sit weer in my keel. My pille is op, ek sal weer na ’n dokter moet gaan, maar ek is skaam. Ek moet hom nog vertel van sy kind, maar ek dink aan ons troue. Ons het nog nie ’n datum vasgestel nie. Die aand praat ons daaroor.
“Jy praat van trou, maar wanneer wil jy trou?” vra ek. “Nou ek spaar die geld. Die wedding is expensive. Kyk die kar, ek moet hom spray, vir die wedding. We no wait too long, alright?” Dis alright, redeneer ek in my binneste, maar wat van jou kind? Die kind word groter by die dag en een van die dae sal mense weet. Hulle sê dis sleg om ’n man te dwing om met jou te trou en ek gee nie om om ’n bietjie te wag nie, maar ek kan die bybie nie vir ewig wegsteek nie.
Ek kry ’n brief van Stewie. Dit gaan goed met my ouboet. Ek skryf dadelik terug en vertel hom van die witpapiere. Jy moet ook aansoek doen. Jy sal meer geld kry, jy sal ’n beter blyplek kan bekostig, in ’n beter buurt. Ek sê niks van Laki en ons trouplanne nie. As ek eers vir die anties en vir Dadda gesê het, sal ek hom alles vertel. Die geld by die nuwe werk is baie meer, ek is mos nou wit. Die wit meisies lag en gesels met my, deel hul geheime met my. Dis nie eens snaaks vir my nie, ons is tog net mense. Ek wys hulle ’n foto van my en Laki, so asof ek wil sê: Ek is regtig wit, kyk my kêrel, hy is ook wit. Ek is vasbeslote om ’n deel van die ekstra geld te spaar, maar met Kay en klein Faantjie is dit moeilik. Kay werk, maar die geld vir die stryk en skrop is skaars genoeg vir hulle. Faantjie moet meer as een keer dokter toe vir dit, vir dat. Dan is dit geld vir die dokter, geld vir die medisyne, sy gaan die dag nie werk toe nie om vir Faantjie te sorg en dan kry sy ook nie betaling nie. Kay is lief vir klere en mooi skoene, maar die geld kan nie so ver rek nie, dan sit ek weer ietsie by. Die geld wat sy my aan die einde van elke week gee, gaan soms net so in haar hand terug. Ek het nie die vrymoedigheid om vir Kay prontuit te sê sy moet haar eie potjie gaan krap nie, maar eendag skimp ek tog so verlangs: as ek en Laki trou, wat gaan sy maak? Waar gaan sy bly? Moet sy nie solank begin uitkyk vir iets nie? “Jy moenie so praat nie, Pettie, waar kan ek gaan bly?” Ek dink aan Newclare waar die anties bly.
“En wat van my stryk en skrop? Ek sal met die trein moet in en uit en wat van die treinticket? Ek sal liewer ’n sleep-in moet kry.” Ek kry ’n plan. “Luister, ek skryf vir jou ’n reference. Die mense kan my bel om te check. Ek sal hulle vertel hoe wonderlik jy is en hoe eerlik en hoe . . . ” Ek kan nie verder nie, ons bars albei uit van die lag. Dis vrek snaaks. By die werk tik ek die getuigskrif: Hard working, honest, ensovoorts . . . Die aand gee ek dit vir haar. Ons lees en ons lag. Later word die lagtrane sommer aan ’n mou afgevee. Binne drie dae kry Kay ’n sleep-in, Faantjie en al. “Dis ’n five-day week met kos elke dag. Ek moet net Saterdagoggende ingaan om die kombuis op te ruim, en Woensdagmiddae is ek ook af. Die ousie langsaan sê ek kry goeie geld, sy kry minder as ek. Ek is happy, ek het ’n dak oor my kop.” Kay straal van geluk en babbel voort, maar ek wil nie hoor nie. Die geld is pateties. Sy praat verder van ’n bed en kas en stoel. “Waar gaan Faantjie slaap?” wil ek weet. “Hy word groter by die dag.” “Ek sal spaar en ’n matrassie koop.” “Liewe Vader, wat gaan jy spaar? Klippe?” Niks kan Kay se excitement demp nie. “Die wit vrou is bly sy hoef nie te sukkel met die nie. Sy sê as ek goed werk, sal sy my later meer gee. Ek hoef nie te sorre vir kos nie, ek eet van hulle tafel af.” “Nee,” hou ek vol, “jy kry te min. Jy moet by die winkels probeer vir werk voor jy iets definitiefs vir die vrou sê. Baie winkels vat deesdae bruin pakkers, wat ook al, jy moet probeer,” soebat ek. Sy probeer. Sy kry werk by ’n supermark, in hulle stoorkamer. Dis harde werk. Daar word van haar verwag om groot bokse en swaar kratte op en af te tel. Maar die geld is meer as by die sleep-in. Met pen en papier werk ons vir haar ’n budget uit.
Soveel is haar geld, soveel vir die trein, miskien soveel vir losies, soveel vir kos, soveel vir Faantjie se oper. Sy het niks oor nie. “Nee, dit gaan nie werk nie. Ek hou nie van die baby-sitter-storie nie. As ek die sleep-in vat, is Faantjie elke dag by my, waar hy hoort. Besides, die kamer het ’n shower, ’n wasbak en ’n toilet. Wat meer het ek nodig? Anyway, hoe lank dink jy gaan my rug dit hou met kratte op- en aftel?” Uiteindelik moet ek erken sy is reg. Die sleep-in is beter; Faantjie moet liewer by haar bly. Sy gaan terug na die vrou en sê sy sal die werk vat.
Dorie kom dikwels na my toe. Dan sit ons drie susters en Laki aan tafel. Ons praat en lag baie en skeer die gek en gesels oor ons kinderdae. Oor dié een, oor daai een. Onthou jy dit? Onthou jy dat? Maar Laki lag nie saam nie. Hy word stil in ons geselskap. Dis die eerste dag van Junie en yskoud. Ek en Laki help vir Kay met die trekkery. Daar is nie veel om te trek nie. Ek het nog lakens en ’n kombers gekoop, want die vrou het gesê Kay moet haar eie beddegoed bring, en Faantjie se babakomberse is lankal te klein. Verder is daar die groot koffer wat sy van die Kaap af gebring het, ’n paar bokse, ’n mooi matjie wat Laki gekoop het, Faantjie se nuwe matrassie en ’n sinkbad en twee emmers vir die wasgoed. Die kamer lyk nie sleg nie. Die mense bly in ’n groot, weelderige huis. Die kamer het elektrisiteit, selfs muurproppe vir ’n ketel en strykyster. Die plek is nuut geverf en voor die groot venster hang vrolike gordyne. Buite die deur is daar struike en blomme. Die plekkie is meer as groot genoeg vir Kay en Faantjie. Ek is tevrede. Sy het reg besluit. Mevrou Cohen verwelkom haar met ’n glimlag. Wat mevrou van my en Laki dink, weet ek nie. Miskien dink sy ek is iemand vir wie Kay gewerk het, want sy bieg teenoor my hoe bly sy is dat daar geen probleme met die sal wees nie. “I’ve lost two good girls within a year,” sê sy. “Police come any time of the day and night. I am glad she is a Coloured, I just hope she stays.” Ek knik my kop simpatiek en verseker haar Kay sal bly.
Terug huis toe praat Laki met my. “Hoekom sy werk hier? Hoekom nie die shop? Is sy stupid?” Hy is al heeldag bek-af en nou weet ek waarom. Ek verduidelik dat Kay vir niks opgelei is nie, sy het nie veel skoolgegaan nie. Die winkels betaal miskien beter, maar die geld wat sy moet uitgee op huur, kos, baby-sitters, vervoer en dies meer los haar met niks geld in die sak nie. Hier kry sy alles en Faantjie gaan saam werk toe. Sy is gelukkig. Hy skud sy kop. Sy werk soos ’n bediende. Terug by die flat haal hy dit weer op. “Beter sy bly hier, by jou.” “Selfs toe sy hier gebly het, het sy ook gewerk as huisbediende. Wat dink jy gaan van haar word as ons trou?” “You like your sister be servant?” Ek word kwaad. “Ons bruin mense was nog al die jare die wittes se bediendes.” “You want to be servant, you don’t want to change.” Ek lag sommer hardop, maar die lag is hol en ’n bietjie bitter. “Regtig! En wie gaan ons die kans gee om sake te verander? Nie die wittes nie! Hulle wil hê ons moet in die winkels kom werk omdat die bruin vel cheap labour is, maar ons mag nie in die wit area bly nie. Vervoer is duur –” “She must apply. She can be white.” “Die bruinmenslewe was vir twee en dertig jaar vir haar goed genoeg. Voordat ek wit geword het, het sy nie geweet sy kan ook wit wees nie. ’n Mens word nie oornag wit nie, sekerlik nie omdat ’n papier so sê nie. Watter kans het sy in die lewe gehad? Ons was baie arm, sy moes skool los om te gaan werk, om te help met die kos en klere. My ouers het nog vir Mamma se broer se kinders ook gehelp, hulle was ses en Mamma se broer is jonk dood. Kay ken net die lewe van
ja, baas, nee, baas, ja, miesies, nee, miesies. Klein Faantjie lyk alsbehalwe wit, wat gaan van hom word as sy ma nou wit word? Sal ’n wit man met haar trou en Faantjie grootmaak?” Dis asof iets in my ontplof het. Ek wil nog meer sê, maar hy val my in die rede: “And Dorie?” “Wat van Dorie! Wat van Dorie!” skree ek. “Hoe de duiwel moet ek weet wat sy wil wees? Haar kleur hinder haar nie. Daar oorkant bly al die kleure saam, trou met mekaar. Daar sal geen nuwe wêrelde vir haar oopgaan net omdat die papier sê sy is nou wit nie. Anyway, sy het gesê sy gaan terug en ek weet nou sy sal nooit weer hier in Suid-Afrika kom bly nie. Sy hou van die lewe in Engeland en sy hou van die geld wat sy daar kan verdien.” Ek praat en praat en Laki luister, maar hy sê niks. Ons moes maande gelede al gepraat het, maar hy kap nie terug nie en ek voel vies. Ons eet die aand in stilte. Later sit ek in sy arms en ons luister na Griekse plate. Die musiek bring my gemoed tot bedaring. Ek ken al ’n hele paar Griekse woorde. Hy praat dikwels ’n bietjie Grieks met my en partykeer kan ek selfs verstaan as hy my iets vra. My kop rus op sy skouer en ek wil weer vir Hadjidakis hoor speel, weer vir Mouskouri hoor sing. Daar is ’n verlange in my hart na ek weet nie wat nie. Ek dink: wat het nou verander sedert ek wit geword het? Die geld is meer. Wat nog? Niks, besluit ek. Ek is nog steeds ek. Ek lyk dieselfde, voel dieselfde. Eintlik weet ek nie hoe ’n wit mens voel nie, of hoe hulle dink nie, besluit ek. “Onthou, Pettie, die wit mens is nie bieterder as jy nie,” het Dadda altyd gesê. Dis waar. ’n Mens is ’n mens en die kleur van jou vel maak jou nie minder of meer mens nie, nie beter of slegter nie, en ek reken my dadda behoort te weet. Hy was wit, toe bruin. Die bruin mense en swart mense by die werk praat nie met my nie, hulle hou terug. Soms voel ek lus en skree: Ek is nie regtig wit nie! Praat met my! Die vrouens in my kantoor praat oor die lewenskoste en kla teenoor my. “My man kry net R500,” tjank hulle, “hoe kan ons daarvan lewe? Ons is nie kaffers nie!”
Liewe Here! My suster kry net R70, wil ek sê. Sy droom ook van duur klere, ’n goeie opvoeding vir haar seun, haar eie huis. Sy het dieselfde behoeftes, dieselfde drome as jy. Liewe Vadertjie, R70! Ander kry nog minder. Hou jou mond, vrou! Sharrap! Sharrap! Wat weet jy van sukkel? Uiteindelik skud ek net my kop en klik my tong. Hoe gaan die arme vrou tog die resiesfiets koop vir die seun, die outomatiese wasmasjien vir haar, die ekstra badkamer aanbou? Siestog. Foeitog. So sit en dink ek in Laki se arms. Hy staan traag op. “Moet ek weer koffie maak?” vra ek. Ons kyk mekaar in die oë, die harde woorde nou iets van die verlede. Hy glimlag mooi en ek glimlag terug. Vergifnis. In stilte steek hy sy hand uit na my, en in stilte kom die oorgawe wat deur die verskansings breek. Waar ons later lepellê, hou hy vas aan die vettigheid van my maag. En dit is die groter plesier: onskuldig en onwetend hou hy sy bybie vas.
Hoofstuk 14
Hulle bel my by die werk: Kitty het skielik siek geword. My baas stem in om my die tydjie af te gee, ek moet gaan kyk wat aangaan. Dis laterig en die stasies is stampvol. Die trein kom die stasie binne en die mense storm, ek ook. Ek voel dankbaar om ’n staanplek te kry waar ek ten minste ’n goeie vashouplek het. Die trein ruk en die wiele rol. ’n Ou man met ’n kaal kop en ’n grys stoppelbaard staan oorkant my. Sy koerant is klein gevou en hy lees aandagtig. Ek kyk na die foto aan my kant van die koerant. Helen Suzman. Die eerste lyntjie van die berig lees: This law belongs to the day of witch-burning and the stocks. It leads to suicides, tragedy and broken homes . . . Ek kyk skielik na die hand wat The Star vashou, dan weer na die gesig. ’n Koue rilling gaan deur my. Liewe Heretjie! Dis ’n bruin hand, ’n bruin gesig. Ek het in die verkeerde wa ingeklim! Ek kyk na die mense om my. Bruin mense, swart mense, en ek het dit nie eens agtergekom nie. My kaartjie sê First Class, ek sal moet uitklim. Dis die volgende stasie; die trein hou stil. Ek vlieg by die deur uit en hardloop langs die trein na ’n wa wat sê Whites Only en klim gou in. My wange brand en ek voel ’n gek. Wat beteken dit? wonder ek. Dat ek nog nie soos ’n wit mens dink nie, besluit ek. By die anties se stasie klim ek haastig uit en hardloop die entjie na die flat toe. Maggie lyk baie aangedaan. Kitty is al drie dae siek. “Hoekom het jy my nie laat weet nie?” “Eers was dit nie so erg nie, maar vandag . . .” Sy skud haar kop. “Vandag sukkel sy om te sluk en kyk hoe lyk sy. Sy is baie siek.”
Kitty sê niks. Haar wange lyk vervalle en die hande voel yskoud. Haar nightie is vuil en dit lyk of sy nie traak nie. Die kamer ruik nie vars nie. “Ons moet haar was en ’n skoon nightie aantrek,” sê ek. Maggie sê sy het reeds vir haar skoon nagklere aangetrek, maar sy mors die koffie. “Ek gaan die ambulans bel. Die hospitaal is die beste plek, jy kan nie vir haar sorg nie,” sê ek saaklik. “Maar as sy gaan, is ek alleen hier,” kerm Maggie. “Wil jy môre langs ’n lyk wakker word? Sy kan val, gaan jy haar optel? Sy is baie swaar, sy moet hospitaal toe, dis die beste plek vir haar.” Ek hardloop tot by die Indiërwinkel. Kan ek die foon gebruik, asseblief, dis siekte. Ja, hulle weet daarvan. Maggie was vroegoggend daar om te sê sy kan nie werk toe kom nie, die antie is te siek. Ek bel die hospitaal. Stuur asseblief ’n ambulans. Ja, hulle sal kom. Wat is die adres? O, dis ’n bruin vrou. Skakel hierdie nommer, hulle sal jou help. Ek bel weer. Ons wag lank voor die ambulans opdaag, dis al goed skemer. “Maggie, jy moet bly, jy kan nie weer op eie houtjie terugkom nie. Ek gaan saam.” “Jy moet my laat wiet wat die dokter sê . . .” kom die bewerige stem. Die man klap die ambulans se deure toe. By die hospitaal gee hulle haar suurstof. Haar kleur verbeter en hulle neem haar na ’n saal. ’n Jong dokter ondersoek haar, ek wag in die gang. Die ondersoek is klaar en hy kom na my toe. “Die longe klink baie sleg. As dit sleg gaan met die longe, gaan dit sleg met die hart. Sy moet hier bly. Môre stuur ons haar vir x-rays en dan kan ons besluit op die beste behandeling vir haar.” Hy klink besorg en simpatiek, vra dan: “Is sy ’n roker?”
“Ja, sy rook taamlik erg.” Hy knik en ek knik. Ons weet dis waarom sy so siek is, maar ons sê dit nie. Ek moet Maggie laat weet wat die dokter sê, maar sy het nie ’n foon nie en die Indiërwinkel is nou al toe. Ek sal moet terug; sy sal worrie. Op die stasie is dit ’n lang gewag, die treine is nie meer so volop nie. Juniemaand se koue vreet aan vlees en been en ek bewe van kop tot tone. Ek voel ’n bietjie bang, dis laat en dis donker. Aan die ander kant hardloop ek so al wat ek kan tot by Maggie se voordeur. “Dis longontsteking,” sê ek toe sy oopmaak. “Sy was so blou, ek het gadink dis die hart.” “Die min suurstof tas die hart aan. Môre gaan visit ons haar. Slaap nou lekker en wees gerus, sy is in goeie hande.” Ek bly by Maggie oor, maar ek kan nie in Kitty se bed slaap nie. Die bed ruik na haar en ek maak liewer vir my ’n plekkie op die vloer. In die oggend voel my lyf styf en seer. Dis nog donker, maar ek verbeel my ek het iemand hoor klop. Dan hoor ek dit weer, dié keer ’n bietjie harder en aanhoudend. Ek sien Maggie is ook wakker en sy begin uitklim, maar ek is eerste by die deur. Dis Laki. My dowwe brein skrik wakker en my bene voel skielik lam. “Kaliméra, Pattie,” groet hy effens flou, lek oor sy lippe. “Kaliméra . . .” groet ek terug. Goeiemôre. Vir ’n oomblik kyk ons mekaar in stilte aan. Toe weet ek, en ek voel bly ek het sy telefoonnommer by die hospitaal gelaat. “I am sorry, Pattie, your auntie is dead. She die this morning, five o’clock. I dress and come straight.” Maggie is agter my en ek staan effens opsy. Vir ’n paar oomblikke staar sy en
Laki mekaar aan, toe groet hy. Sy groet nie terug nie, staar hom net in stilte aan. Ek draai om na haar en vat haar hande, maar haar oë bly op Laki. Die kroesies in die vlegseltjies is los geslaap en staan orent, die tande lê nog in die glas langs die bed en ’n groot haakspeld hou die twee pante van die pyjamas vas. “Wie’s hy?” vra sy verward. “Maggie, ek is so jammer. Kitty is weg. Nou-nou net.” Laki mompel ook iets van “sorry”. Die trane staan in die ou vrou se oë. Sy besef nou: haar suster is dood. “Sy moes nie hospitaal toe nie,” is al wat sy sê. “I go now. You want help?” vra Laki. “Nee, dankie, ek sal regkom. Ek moet vir eers hier bly, maar ek sal jou . . .” Ek sluk my woorde. Hy knik. Hy verstaan: Maggie weet nog nie van hom nie. Ek staan in die deur en kyk hom agterna totdat hy inklim. Hy kyk om. Ek waai en hy waai terug. Maggie sit gebukkend op die punt van die bed, haar elmboë op haar knieë. Sy steek ’n sigaretjie aan en vee die trane af met ’n groot mansakdoek. Ek gaan sit langs haar, my arm om haar skouers. Wat kan ’n mens sê? Na ’n rukkie staan ek op en skakel die ketel aan. “Nou nog die begrafnis,” sê ek, nie heeltemal seker wie gaan wat betaal en hoeveel nie. Ek het nog nooit iemand begrawe nie. “Die funeral is olraait, Kitty het die boekie. My pa het ’n boekie vir al sy kinners uitgeneem en ons het aanhou betaal. Hy het vir ons gesorre. Die boekie sal betaal virrie kis en die funeral. I think . . .” Sy staan op en gaan na die kas toe. Sy vroetel ’n bietjie en bring dan ’n boekie te voorskyn. “Dis nou Avbob, die funeral-mense. Djy vat die boekie en kyk wat hulle sê, moet
ek inbetaal of is dit genoeg. Ek dink miskien moet ek inbetaal, ek wietie hoeveel nie. Dis expensive om te liewe en dis expensive om dood te gaan.” Sy blaai stadig deur die boekie, asof sy Kitty se lewensverhaal daarin lees. Die boekie word toegemaak en amper plegtig aan my oorhandig. Ek bêre dit in my handsak. Ek moet aantrek. My voetstappe is amper geluidloos soos ek tussen die badkamer, kombuis en kamer beweeg. Ek maak aanstaltes om te loop. “Kom djy terug?” vra sy grootoog. “Natuurlik, hoekom sal ek nie?” “Kom sê my alles. Oor twee weke moet die rent betaal worre en ek kan dit nie alleen afford nie. Djy moet my nie op my eige los nie, Pettie.” Die trane rol. Ek troos en beloof om gou terug te kom. Met die trein is ek eers in stad toe, na my werk toe. “Dis dood in die familie, ek moet al die reëlings tref. Gee my nog ’n bietjie af, asseblief.” By die begrafnisondernemers tref ek die nodige reëlings. By die munisipaliteit betaal ek vir die stukkie grond en by die poskantoor stuur ek twee telegramme, een na my dadda en die ander na oompie Spykers. Kitty vanoggend dood. Laat almal weet. Pattie. Terug in Newclare spoor ek die dominee op. Ja, hy sal haar begrawe. Maggie se voordeur is oop en sy staan op die drumpel en wag my in. “Moet ek betaal?” is die eerste wat sy vra. Haar oë is dik gehuil en ek kry haar innig jammer. “Nee, dis nie nodig nie. Die boekie is goed, hulle sal sorg vir alles. Ek het sommer die kis gekies. Terwyl ek nog daar gestaan het, het hulle iemand gestuur om die liggaam te gaan haal.” “Dis goed so. Wanneer is die funeral?” “Môreoggend elfuur. Ek het gedink hoe gouer hoe beter. Daar is geen punt
daaraan om die hartseer nog uit te rek nie. Die Kaapse mense sal tog nie kom nie.” “Dis goed so. Uit watter kerk word sy begrawe?” “Die NG Kerk. Dis nie ver hiervandaan nie. Die dominee is Piet Janse.” Vir ’n paar oomblikke sit ons in stilte, elkeen met sy eie gedagtes. Ek is bly môre is Saterdag en ek hoef nie weer af te vra nie. “Ek het nie eens ’n swart rok nie,” sê sy saggies, amper ingedagte. “Maar Maggie het mos die swart skirt.” “Hy’s oud, hy lyk sleg,” maak sy protes. “Ek het vir Stewie gebel, hy sê hy sal kom. Hy kan ’n draer wees.” “Een draer,” sê sy en kyk na die kooltjie van die sigaret. “Jossie en Sarel Duvenage kom ook, ek het hulle gebel. Maggie onthou mos vir Jossie, Lettie se suster. Hulle bly in Witpoortjie, nie ver hiervandaan nie. Hy kan ook ’n draer wees, en die undertakers sal ook draers gee.” “Net vier,” sê Maggie. “Kitty is ’n groot mens, sy is swaar.” Dit val my by van Kay en Dorie. Ek het hulle nog nie vertel nie. “Ek moet gaan om hulle te sê. Is daar nog iets wat ek vir Maggie kan doen? Ek sal môreoggend betyds kom.” Toe val dit my by: “Wil Maggie eers die lyk gaan kyk?” Ja, sê sy, sy kom saam, sy moet koebaai sê. Dis die decent ding om te doen. Ek loop eers weer na die Indiër-café, bel die undertakers. “Kom oor ’n uur, dan sal sy gereed wees,” sê hulle. Ek en Maggie klim op Braamfonteinstasie af, dis waar die mortuary is. Ons word die kamertjie ingelei. Die kis staan hoog op ’n trollie. Ons loop nader. Ek onthou my mamma se kis. Eintlik is dit net die blink handvatsels wat ek mooi kan onthou.
Kitty lê asof sy rustig slaap. Om haar nek is ’n wit kraag, die hare netjies agtertoe gekam. Maggie buk vorentoe en fluister koebaai terwyl ’n traan op Kitty se wang drup. Sy vee dit af met ’n wysvinger en snuit haar neus hard uit. Nog ’n maal fluister sy: “Koebaai.” Sy staan ’n bietjie terug en ek staan nader, kyk af na die slapende vrou. ’n Frase uit my Hollandse skoolboek kom sit in my kop: Hoeveel bloesems worden vruchten en hoeveel pitten worden boomen? Ek dink aan die stories wat Kitty kon vertel, van forced removals en persecution, armoede en discrimination, job reservations en hotnot, wat het jy in daardie sak? Sy het dit als belewe, nog iemand anders se kind grootgemaak en steeds staande gebly. Tot die dood toe. Kitty, praat ek in my binneste, jou bloeisels het vrugte gedra, jou pitte het bome geword. Goddank vir jou. Koebaai.
Van die undertakers af tot by Kay is ’n ver ent se loop. Maggie se asem hyg en my voete is seer. Ek roep na Kay. Mevrou Cohen kom uit en jaag die hond weg. “Kay is in her room,” sê sy terwyl sy die ander hond vashou. Kay is verbaas om ons te sien en weet sommer dadelik iets is nie pluis nie. “Ag, my antietjie,” sê sy toe sy die nuus hoor. Sy druk Maggie styf teen haar vas. Hulle huil teen mekaar. Kay skink vir ons elkeen ’n bekertjie Coke en ons sluk gretig. “Ek het net ’n uur se rus, dan moet ek die skottelgoed gaan was en kombuis aan die kant maak,” verduidelik Kay. Die son trek water en dis koud. “Ons moet aanstaltes maak,” sê ek vir Maggie, maar sy wil nog ’n bietjie rus. Kay moet terug kombuis toe. Ons groet. Sy sê ons kan rus so lank ons wil.
“Hoe ver nog?” vra Maggie. “Die stasie is ver.” “En djou flat?” “Ons kan nie soontoe gaan en môreoggend eers weer na Maggie se flat toe nie, dis te omslagtig,” keer ek. Sy knik effens, maar ek kan sien die lip is lank. Sy is goed vies. Haar doekie word afgehaal en om die kop gedraai, hierdie keer stywer, om ’n bietjie te keer teen die koue. “Pettie! Pettie!” hoor ons Kay roep en sien haar oor die grasperk aangehardloop kom. “Julle moenie loop nie. Mevrou Cohen sê sy sal julle stasie toe vat, sy gaan daai kant toe.” Teen die tyd dat ek en Maggie by haar deur nagsê, is ek versteen van die koue. “Ek moet iewers ’n swart rok kry,” het sy weer in die trein gekerm, “my djas is te lig virrie funeral en hy’s vuil. Hy moet gedryclean worre.” Ek sê niks. Ek sal moet help met die huur, daar is nie nog geld oor vir ’n rok of jas nie. Dis goed donker teen die tyd dat ek tuis kom. Laki se lig brand nog. Ek is bly, ek het geselskap nodig, troos ook. “Wat jy doen the whole day?” vra hy toe ons gaan sit. Ek vertel hom van die heen-en-weer-ganery. “Ek is doodmoeg,” sê ek, “en honger. Ek het nog nie geëet nie.” Laki sê ek moet sit en hy gaan maak vir ons ’n heerlike Griekse slaai. Hy sit dit voor met vars broodrolletjies en ’n glasie wyn. Êrens grawe hy ’n stukkie knoffelpolonie uit, sny dit in dun skyfies. Hy gooi ’n bietjie olyfolie en asyn oor die slaai en ons val weg. Ek slaap die aand by hom en ek huil op sy skouer oor Kitty. En oor Maggie. “Wat gaan ek maak met Maggie?” huil ek, maar hy sê niks.
Die volgende oggend vertel ek hom van Maggie se geneul oor ’n swart rok en haar jas wat te lig en vuil is. “We buy coat, that is all,” sê hy. By die OK Bazaars soek ek na ’n warm swart jas. Ek is klaar aangetrek vir die begrafnis. Laki laai my naby Maggie se flat af en ek loop haastig die laaste paar tree. Maggie staan voor die spieël. Sy maak ’n swart doek om haar kop vas; mense moet kan sien sy rou. Sy het die swart romp aan. Sy kyk na die groot pak wat ek indra. In my ander hand hou ek ’n mooi krans vas, vars affodille. Hulle lyk amper te vrolik vir ’n graf. “Ek het ’n jas gekoop,” lieg ek. Laki het betaal. Haar oë straal toe sy die pakkie oopmaak. Die jas pas perfek en sy huil weer, maar dié keer van blydskap. Sy sal warm wees en netjies lyk. Ek voel nog liewer vir Laki omdat hy die jas gekoop het. Jy is ’n goeie man, dink ek vir die soveelste maal. Om tienuur klop Stewie aan die deur. Hy het vet geword en lyk goed in sy pak klere met die swart das. Hy is al douvoordag uit Pretoria met die trein, sê hy. Hy en Maggie omhels mekaar. “Waar’s Kay en Dorie?” vra hy nadat hy ons albei behoorlik gesoengroet het. Dis vir my lekker toe my broer my omhels. “Hulle kom. Kay het beloof om vanoggend vroeg vir Dorie te gaan sê. Sy het gister gewerk en ek kon nie nog soontoe ook nie.” Ek sien hoe sy bruin oë in die trane swem. Hy was lief vir Kitty. Sy het vir hom baie jerseys gebrei toe hy nog ’n jong klong was. ’n Bietjie later kom Kay en Dorie saam daar aan en agter hulle is ’n man. “Dis Paulkie se broer,” stel Kay ons voor. “Ek het hom gisteraand gebel en hy het beloof om te kom. Hy het my eers opgelaai, toe het ons vir Dorie gaan haal.” Ek ken hom nie regtig nie; ons het mekaar laas op Kay en Paulkie se troue
gesien. Maar ons is bly om ’n kar te hê, en nog ’n draer. Die vrouens sit die kamer vol en die mans staan dit vol. “Ek het gedog ons gaan laat wees. Ons het so gesoek na mevrou Soes se plek en hy het net so gesukkel om my te kry,” sê Kay. “Nei, ek mind nie, ons is mos nou hier,” verseker Paulkie se broer haar. Nog ’n klop aan die deur, hierdie keer is dit Sarel en Jossie. Almal groet. Hulle het die seuns by die huis gelos. “Funerals is nie virrie kinners nie,” sê Jossie. Die voordeur staan oop en ons sien hoe die lang swart kar nader kom. “Die begrafniskar is hier,” sê Stewie. “I’m ready,” sê Maggie. Maggie loop voor, Dorie net agter haar. Ek hoor hoe sy vir Maggie sê sy het ’n mooi jas aan terwyl sy met haar vingers aan die fur om die nek vat. Maggie glimlag so effens. “Ja,” sê Kay, “die antie lyk grand, is dit ’n nuwe jas?” Maggie antwoord nie, sy glimlag net weer. Sy lyk netjies en die mense sien dit. Ek, Maggie, Kay en Dorie ry almal saam met Paulkie se broer en dis ’n tight fit, maar ons is in. Stewie ry saam met die undertakers. Sarel en Jossie het hul eie kar. Die stoet beweeg vorentoe. Die preek in die kerk is kort en kragtig. Die dominee ken nie die mense nie, maar hy lees ’n mooi stuk uit die Bybel en praat van die opstandingshoop. Maggie sit tussen my en Stewie en vee trane af. Agterna skud die dominee weer hand met almal. Paulkie se broer, Stewie, die dominee, Sarel en twee mans van die undertakers is almal draers. Ons staan om die graf en ons bewe, die wind waai deur murg en been. Weer ’n paar woorde, weer ’n gebed. Die dominee begin sing: “Rus my siel, jou God is koning, oral voer Hy heerskappy.” Dié van ons wat die wysie ken, val in. Maggie gooi eerste sand op die kis terwyl dit stadig wegsak. ’n Gewig kom lê
skielik op my hart en ek kan die trane nie meer keer nie. Koebaai, Mamma, prewel my lippe, maar geen geluid kom uit nie. Ek skrik. Dis nie my mamma wat begrawe word nie, dis Kitty! Ek gooi vinnig ’n bietjie sand op die kis. My lyf ruk en ek besef skielik dis nie van die koue wat ek so bewe nie, dis my snikke. Ek huil oor my mamma, oor Kitty wat dood is, Maggie wat alleen is, en Laki wat ver is. Is ek nou hartseer of bitter? wonder ek. Nee, nie bitter nie, besluit ek. ’n Mens se gedagtes loop soms wye draaie, jy gee hom die pinkie en hy gryp as ’t ware die hand. Dis my matriekjaar en ons lees uit Audrey Blignault. Sy haal aan uit Habakuk: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie . . .” Ek kan nie verder onthou nie, maar dit eindig met die woorde: “Nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil.” Ek stem. Al is my mamma dood, al lê Kitty in haar kis, nogtans sal ek jubel. Maar miskien was dit nie my matriekjaar nie, miskien was dit nie Audrey Blignault nie, maar iémand het geskryf oor die verskriklike tye waarin ons leef en tog kon hulle saamstem met Habakuk se woorde: “Nogtans sal ek jubel in die Here!” Pattie Peters, praat ek met myself, ruk jou reg. Vee af jou trane, jy het baie om voor dankbaar te wees. By die graf draai ons om. Maggie wil weet waarheen nou. Ons moet die mense tee gee, sê sy. Die sonnetjie bly agter die wolke en dit bly koud. “My plekkie is te klein vir so baie mense,” maak sy verskoning, kyk my kant toe. “Nei, watwou, ons sit somma oppie vloer,” sê Stewie laggend. “Wat van djou flat?” vra sy vir my. “Hy’s net so klein.”
My flat is buite die kwessie; die ander mense mag nie weet waar ek bly nie. Hulle sal nie verstaan nie. Nog minder sal die inwoners van die flats verstaan waarom die bruin mense nou skielik op hulle toesak. “Daar is nie genoeg cups nie,” sê die lang lip weer. “Ek het gesorg,” troos ek. Ek het ’n dosyn papierbekertjies saamgebring, asook ’n pak koeksisters en melk en papierservette. Daar is genoeg tee en suiker vir almal. Niks meer is nodig nie. Ek het die goed in Maggie se kombuisie gesit, maar sy het dit nie raakgesien nie. Ons agt stuks sit die flat vol, omtrent toon aan toon, maar almal is net te bly oor die warm koppie tee en soetgoed. Maggie se kieste staan bol soos sy die koeksister verslind, haar hande bak om die koppie. Sy skud haar kop stadig, haar oë lyk treurig. “Da lê sy nou, nè, nes djulle oorlee ma.” “Ek onthou Mamma se funeral nog goed,” sê Kay, tel dan op haar vingers, “oor twee maande is dit veertien jaar.” “Dit voel amper soos gister,” sê Stewie. “Dja, soos gister, en sy was only forty eight. Nog bloedjonk. Dit was month of August, en net so koud. Soos gister was dit,” sê Maggie. Sy suig ’n bietjie aan die warm tee, sit dit dan eenkant toe as iemand haar ’n sigaret aanbied. Sy paf-paf ’n bietjie. “En wat nou, vra ek djou? Saam kon ons aan die liewe bly, maar op my paar sent pension kan ek nêrens allenig ga bly nie. Dis middle of the month, waar gaan next month se rent vandaan kom? Wat ga van my worre?” “Ai, antie, ons bruin mense het nie hyse soos die wittes nie, ons bly ma almal in hokkies,” sê Paulkie se broer. “Dja, ons space is ook ma klein,” stem Sarel saam. Jossie staan nader. “The best is rent a room. Ek is sieker hier is baie mense wat
ma te bly sal wies om so ’n oue te hê. Antie sal of course ’n bietjie rent moet bataal, ma dis darem ’n dak orie kop.” Maggie kyk haar vies aan. “Dis die beste, en so safe,” sê nog een. Jossie is reg, besluit ek, sy sal ’n kamer moet kry. Losies betaal en van die orige stukkies meubels ontslae raak. Die vrouens praat nog oor Maggie se kop van rent a room. Elke nou en dan maak sy ’n harde snuif- of snorkgeluid om haar misnoeë te kenne te gee. Stewie kry my eenkant. Hy druk ’n paar note in my hand. “My sussie, ek gaan nou ma weer. Daar’s ’n bietjie sport vanmirrag, jy verstaan, en ek willie die kaartjie waste nie, dis geld weggooi. Gee die R20 vir Maggie as ek eers weg is, miskien help dit ’n bietjie.” Hy soen Maggie en dan sy susters, groet die ander met die hand. Sarel en Jossie groet ook. Ek sien hulle steek Maggie ook iets in die hand. Paulkie se broer staan agter hulle, sien die geld en vroetel diep in sy sak. Hy bring papiergeld te voorskyn en gee dit vir Maggie. “Ek is djammer dis so min, my antie, ma ek het ’n klomp kinners, antie verstaan. Gaan ma goed oppie pad, antie. Koebaai. Koebaai, almal.” “Wag ’n bietjie,” protesteer Kay, “jy kan ons gerus weer oppie pad drop. Kom julle saam?” vra sy terwyl sy haar jas toeknoop. “Ek bly nog ’n rukkie,” sê ek. Dorie trek nou ook jas aan, soen vir Maggie en stop haar ook iets in die hand. Maggie sit in die gemakstoel, ek op die bed. Ons kyk vir mekaar, bly dat die begrafnis agter die rug is. Sy maak haar maer, benerige hand oop vir my om te sien. Vir ’n oomblik kyk ons na die hand vol note. Sy wil iets sê, maar dit steek vas in haar keel. Met die agterkant van die ander hand vee sy oor haar oë. “Dis goed so, Maggie moet dit gebruik. Hier is nog R20 van Stewie af.”
Sy tel die note versigtig, een vir een. “Dorie het R20 gegee, Stewie R20, Jossie en Sarel R10, en Paulkie se broer R5. Praise the Lord, die rent is betaal.” Ek is net so bly oor die geld. Sy moet nog ’n maand kennis gee en die kennismaand se huur betaal voor sy kan uit. As sy ooit wil uit. Ek tel die papierbekertjies en servette op en gooi dit in die asblik. Die een asbakkie word gewas en die teepot uitgespoel. Ek vee oor die klein opwasbak en hang die doek op. Iemand klop aan die deur en Maggie maak oop. Dis ’n bode met drie telegramme. Die een is van my pa: Deepest sympathy. Wil en Mona. Die ander twee is van oompie Spykers en die anties se niggies. “Hulle het my onthou,” sê sy bly, en lees al drie ’n tweede maal. Ek bly die res van die dag by haar. Ons braai tamatie, uie en polonie en smeer vir ons elkeen twee stukke brood. Agterna drink ons koffie. Vyfuur maak ek aanstaltes om te loop. Ek groet en sy kyk my verbaas aan, amper verslae. “Ek moet gaan, Maggie, netnou is dit donker. Ek kom môre weer.” Haar oë skiet weer vol trane. “Dis bieterder as ons saam is. Djy is alleen en ek ok. Wat is die point dat ons so een-een en so ver van mekaar moet bly?” Ek gaan sit langs haar op die bed, vat haar hand. Met ’n mooi stem belowe ek ek kom weer, ek sal help waar ek kan. Sy sal nie afgeskeep word nie. Vir my om hier te bly is te ver van my werk, ’n treinryery is ’n duur storie. Môre kom ek weer. Sy knik haar kop, vee die trane vir die soveelste maal af en bedank my nogmaals vir die jas. Hy is mooi en lekker warm, sê sy. Die mense het hom raakgesien. Ek glimlag. “Dra hom goed,” sê ek en gee haar ’n kamstige pinch en ’n punch op die arm. Sy
glimlag. Buite laat die windjie my neus en oë water. Wat maak Laki? wonder ek.
Hoofstuk 15
Laki haal ’n tjek uit sy binnesak en wys dit vir my. Dis meer as ’n duisend rand. Waar kry hy soveel geld? wil ek weet. Hy lag en sit dit terug in sy sak. Dis geld wat hy voor gewerk het, sê hy. Aan die einde van die maand moet hy nog ’n duisend kry. Die boubedryf is aan die gang, Christie’s Construction Company het ’n goeie paar kontrakte losgeslaan. Hy sit sy arms om my. “Jy wil nog trou?” Ek lag. Eers het ek geen keuse gehad nie omdat hy wit en ek bruin is, en toe is ek ook wit en het ek ’n keuse. En nou? Nou is ek met die lyf en het ek geen keuse meer nie. “Ja,” sê ek. “My twee susters weet van ons en hulle gee nie om nie. My pa durf nie beswaar maak nie. Kitty lê in haar graf en ek sal dit nog vir Maggie moet vertel. Sy sal dit eenvoudig moet aanvaar.” Laki lag breed. “Waar trou ons?” wil ek weet. “In die hof?” “Nee, die kerk. Is the right place.” Nee, ek kan nie in ’n wit rok staan met mense wat my aangaap nie, ek is met die lyf, dink ek, maar ek sê niks. “Hoe gaan dit wees met my bruin mense, jou wit mense?” vra ek. “Wat van die onthaal? Die wet sê wittes en bruines mag nie saam drink nie.” Hy gooi sy hande in die lug. “Los die myne, die joune. Ons mense. Ons is een. God is liefde, hy maak ons een. Ons trou alleen. And my brother.” “Jou broer?” “Ja, my broer kom, van Greece. He will help with business.” Nou ja, dan wil ek liewer net in die hof trou, met sy broer as getuie, maar ek kan
hom nie weier nie. Vir die Grieke is die huwelik nie wettig as dit nie in hulle kerk plaasvind nie, maar Suid-Afrika moet sy burgers ook beskerm en vereis dat hulle eers in die hof trou. “Ek moet twee keer trou,” sê ek, ’n bietjie onseker oor die gedoente. “You no look happy,” sê Laki, maar hy glimlag. Ek sug hard. Dis Maggie. Sy is die doring in die vlees en ek voel skuldig en skaam om dit te erken. Sy moet by iemand gaan bly, dis al, sê Laki. Dis gevaarlik vir ou mense om so alleen te bly. “Sy wil by my bly,” sê ek. “Ek skuld haar iets. Sy het immers vir my gesorg, hard gewerk vir my.” Jy was ’n kind, kap hy terug, jy het nie daarvoor gevra nie. Jy het hulle plesier verskaf, hulle jonk gehou en nog steeds sien jy om na hulle. Dit was hulle keuse om jou te vat, om jou aan te neem. Maar nou is jy groot. Help Maggie waar jy kan, maar dis nou jóú lewe wat belangrik is. “Ek kan haar nie op haar oudag weggooi nie,” kerm ek. Hy loop op en af. Nou goed, sê hy uiteindelik, sy kan by ons kom bly ná ons getroud is. Sy uitlating verbaas my. “Waar gaan ons bly?” wil ek weet. “You tell me. She is Coloured. Where we stay, you tell me.” “Ek weet nie,” erken ek. “She is not your mother!” sê hy hard en ek skrik vir sy stem. “Sy het vir my gesorg!” sê ek net so hard. Hulle hou nie van jou pa nie, hulle sal nie van my hou nie, ek is wit, sê hy. “I born white.” Ek weet wat hy bedoel. Ek luister hoe hy nog van “hulle” praat. Dis moeilik om
aan Kitty te dink as ’n dooie. “Where we stay?” vra hy weer, hierdie keer saggies. Hy laat sy kop agter op die stoel rus en bekyk die plafon asof hy daar ’n antwoord sal kry. Ons kan nie in ’n wit buurt met haar gaan bly nie, dit besef ek. Ook nie in ’n nieblanke-area nie, ons is wit. In ’n agterkamertjie sal sy nie weggesteek wil wees nie.
Laki vat my een aand na Kay toe en ek vertel haar dat ons binnekort gaan trou. Eers moet ek in die Grieks-Ortodokse Kerk aangeneem word, dan moet ons in die hof trou en dan in die Griekse kerk. Ons bespreek die gedoente. “Jy moenie wag tot op die laaste nie, sê nou vir Maggie,” por Kay my aan. “Ek sal. Ek wag net vir die regte geleentheid om haar te sê.” Kay vertel my sy het na mevrou Soes gegaan en met haar gepraat oor Maggie. Mevrou Soes het gesê Maggie kan by haar kom loseer as sy ’n bietjie met die opruim in die kombuis sal help. Sy sal haar eie kamer hê en mevrou Soes sal bly wees vir haar geselskap. Sy sal tussen mense wees en vir die hulp in die kombuis sal mevrou Soes die huur verminder. “Maggie moet notice gee,” sê Kay. “Vandag is die einde van die maand. Pettie, jy moet met haar gaan praat, sy moet by mevrou Soes gaan bly. Sê haar ook van Laki en vannie trouplanne, die witpapiere, alles.”
Vroeg die volgende oggend daag ek by Maggie op. Sy slaap nog. Ek val met die deur in die huis. “Maggie moet vandag nog kennis gee, dis die eerste van die maand.” “Ag so, en wa moet ek dan heen?” vra sy kwaai en nog deur die slaap terwyl sy haar tande uit die glasie haal. “Daar is plek by mevrou Soes in Doornfontein. Sy sê as Maggie gewillig is om ’n bietjie in die kombuis te help, kan Maggie daar bly vir goedkoop. Maggie sal nie met iemand ’n kamer moet share nie. Die huis is lekker groot. Mevrou Soes
is regtig baie gaaf.” Ek wag. Sy sê eers niks. Wat ek gesê het, moet eers insink. Die gown word nader getrek. Dis oud en toiingrig, die slippers verflenterd. Ek sal weer hand in die sak moet steek. “Wat sê Maggie? Hoe klink dit?” por ek haar aan. “Hoe cheap is haar cheap?” wil sy weet. Ek sê haar. Sy snork hard. “En wat dink djy het ek oor vir myself?” “Dit sluit alles in, elke bordjie kos en elke koppie tee. As Maggie iets nodig het, is ek mos daar om uit te help.” Die antie gaan nie sonder ’n fight nie, dit kan ek sien. Sy dink lank. “Dis goed,” sê sy dan platweg. Wat beteken dit? wonder ek. Gaan sy of bly sy? Sy steek vir haar ’n sigaret op en suig diep, die frons breed tussen die oë. Dat sy iets op die hart het, is duidelik. Ek weet sy sal dit sê op haar eie tyd. Ek wag. “Dis goed so, ek sal dit vat. En ek sal help innie kombys. Djou flat is mos te klein vir nog ’n kooi. Djy bly in die white area en dink djy is ok nou white. Djy het skaam geworre vir djou antie. Ma dis olraait. Ek sal gaan. Da kan almal ma van my vergiet. Djy kan ma die notice gaan gee as djy nie mind nie.” Haar beskuldigings sal ek nie kop toe vat nie, besluit ek. Sy het haarself nog altyd bejammer. Niemand gee om vir haar nie, niemand wil haar hê nie, sy dra die wêreld en al sy laste op haar skouers. Dis ’n ou storie. “Maggie, daar is iets wat ek vir Maggie moet vertel.” Binne-in bewe ek, maar ek weet dis nou of nooit. Sy kyk nie na my nie. Haar oë kyk stip na die kooltjie aan die punt van haar sigaret, die lip hang. My hart klop woes in my borskas en ek voel vies vir myself. Hoekom is dit so moeilik om met
die vrou te praat? “Ek gaan trou,” sê ek vinnig, verlig die woorde is uit. Uiteindelik. Sy sê niks, kyk vlugtig na my deur ’n waas van rook. “Ek gaan trou,” sê ek weer. Dié keer praat ek stadiger, ek wil seker wees sy verstaan, en voeg by: “Einde van die maand.” “Met wie nogal?” vra sy, maar sy probeer klink soos iemand wat nie die minste belangstel nie. “Met Laki. Laki Pappasani.” Stilte. Snuif-snuif. “Is dit nou die boyfriend wat ver werk? Is hy dan terug?” “Ja, hy is terug en ons wil trou.” Stilte. Snuif-snuif. “Watse naam het hy? Waar kom hy vandaan?” Ek sluk hard. Sê dit, Pattie, sê dit. Hy is wit. Jy is wit. Vertel haar! “Hy is ’n Griek,” is al wat ek kan uitkry. Sy maak haar mond oop om iets te sê, maak dit weer toe. Die skok is te groot, dink ek, sy kan nie ’n woord uitkry nie. “Hy is wit, natuurlik,” erken ek. “Ek het ’n tydjie gelede aansoek gedoen vir white citizenship en dit gekry. Nou mag ons trou. Ek weet ek moes al eerder iets gesê het, ek is jammer . . .” My wange brand, my asem jaag. Waarom kry jy skaam? vra ek myself. Maggie sit asof sy versteen is. Sê iets, pleit ek stilletjies, sê iets. Maar die een wat lewe kry, is nie Maggie nie, dis iets diep in my. Instinktief sit ek my hand oor my maag. Hy roer weer, voetjies trap my. My bybie.
Maggie kom tot verhaal, uiteindelik. “Ek kon dit gadink het,” sê sy beskuldigend, saggies. “Dit kom daarvan as djy white bioscopes toe gaan en met die wit goete lol. Dis hoekom djy my nie wil hê nie, djy is nou wit, met ’n wit mannetjie. Djy kry skaam vir my, djy is nou bieterder as die antie wat djou snotneus afgevee het. So het djulle pa ook destyds gadink, ek en Kitty was nie goed genoeg vir hom nie en nou? Wa sit hy nou? Pride goes before a fall, onthou dit.” Sy skep asem. Daar is nog baie aan die kom. “Sny djy nou djou hele family af, of is dit net ekke? En djou vrinne, ok vir Lettie? Wat dink djy gaan djou kinners wies? Nel sal in haar graf omdraai as sy moet wiet!” Nel is die laaste een wat iets sal sê, dink ek, sy het dieselfde gedoen. My hart voel ’n bietjie seer dat sy my mamma nou ook insleep. Sy beskuldig, ek verdedig. Aan en aan en aan. Dis als my pa se skuld. Baie dinge word gesê wat liewer moes gebly het. Sy word kwaad en ek gaan kwaad daar weg. No compromises, maar wat anders het ek verwag? Watter reg het sy om so oor my pa te praat, om hom so te veroordeel? Die befoeterde ou vrou!
Laki luister aandagtig na my. Maggie het dit gesê, toe sê ek dat, toe sê sy weer dit. Hy probeer om op sy saaklike manier te troos. “She is sick on brain, forget her. She has place to stay, don’t worry any more. Today we go to Greek Church, the pappás wait for us.” “Hoekom wag hy vir ons, wat gaan ons daar maak?” wil ek weet. “You must be one with church, the pappás make you one. Then we can marry.” Ek verstaan, dis vir die aanneming. Die pappás groet ons vriendelik toe ons daar aankom. Laki buig effens en soen sy hand. Die ou man loop voor en ons volg hom die kerk in. Binne is dit stil, maar buite rumoer die motors en mense. Die kerk is op die hoek van Wolmaransstraat en dis woelig.
Laki gooi geld in ’n boksie en kies ’n kersie. Hy wys ek moet ook ’n kersie neem. Ons steek dit aan by die groot kers en druk dit in ’n bak sand. Laki maak sy kruis en soen ’n prent van Maria met die baba Jesus. “You just read the book,” fluister Laki vir my. “Watse boek?” vra ek verskrik, ek kan nie Grieks lees nie. Laki gaan staan in die voorste ry en die pappás beduie ek moet saam met hom op die verhoog kom staan. Onseker klim ek die trappie. Die ou man sing terwyl hy die Bybel voor hom hou, kyk so dan en wan na my kant toe. Sy hare is kort geknip, maar die baard is welig en die toga van goud en groen hang tot op sy voete. Hy lyk meer soos ’n koning as ’n dominee. Ek kyk Laki met groot, bang oë aan. Hy knipoog vir my, glimlag pragtig. Ek ontspan effens. Die pappás gee vir my ’n boekie en beduie: “You read this, and this . . .” en hy wys met ’n adellike vinger presies waar ek moet lees. Dankie tog, dis Engels. The Apostles’ Creed. Ek ken dit; ons lees dit ook in die Anglikaanse kerk. Die ou man glimlag aanmoedigend vir my deur sy welige baard. Ek voel nie meer so erg op my senuwees nie. Ek begin lees: “We believe in one God, the Father, the Almighty, maker of heaven and earth, of all that is, seen and unseen. We believe in one Lord, Jesus Christ, the only son of God, eternally begotton of the Father . . .” Terwyl ek lees, sing die ou man sy Griekse wysie. Laki maak telkemale die kruis oor sy bors. ’n Paar minute later is die aanneming klaar. Is dit al? wil ek vra. Die pappás skud my hand, skud Laki se hand. Ons loop saam na ’n kamertjie waar die pappás al my besonderhede neerskryf. Ek sal later die sertifikaat kry wat sê ek is nou lid van die Grieks-Ortodokse Kerk, sê hy. Toe bespreek Laki en die pappás ons troue. Ek luister kamma, maar verstaan natuurlik niks. Die datum word vasgestel, alles is nou finaal. Ek en Laki gaan werklik trou. Geluk is kortstondig, dit weet ek, maar in daardie paar oomblikke toe ons van
die kerk wegstap, voel ek baie, baie gelukkig, my hand styf in Laki s’n. My babatjie sal nie onwettig wees nie. In die bakkie soen ons mekaar vlugtig. “You put the rope,” lag hy en sit albei hande om sy nek. Hy ry die stad in en soek parkeerplek. “Waarheen gaan ons?” vra ek toe hy die deur vir my oopmaak. “Jy vra nie die ring?” lag hy. Ek het skoon vergeet van die ringe, ons het in elk geval nooit daaroor gepraat nie. “You have money?” fluister hy in my oor. “Yes, I have some money on me, why?” “I also want ring.” Ons sit langs mekaar in die juwelierswinkel en die dame glimlag mooi met ons. Sy wys vir ons ringe. Ons troupande moet dieselfde wees, sê Laki. Ek kyk en Laki praat. Die ringe is duur. Ek is eers huiwerig om ’n diamant te kies, maar Laki moedig my aan, steek dié een aan my vinger, dan daai een. Ons kies ’n vierkantige diamantjie. Laki haal die kontant uit sy sak, vra vir afslag en die transaksie is beklink. In die motor bekyk ons weer die ringe. Twee troupande en ’n diamant. Ek steek dit aan my vinger, maar Laki haal dit haastig af. “Not now,” sê hy en soen my hand. Die geluk dreig om by my oë uit te spoel. “We put rings next Saturday. I take bigger flat and we make party, alright?” Laki ken nie in Engels die verskil tussen present tense en past tense nie. Terug in Hillbrow vind ek uit hy het reeds ’n groter flat gekry met ’n ruim sitkamer. Die res van die dag maak ons skoon en dra meubels in. Volgende Saterdag is ons verlowing. Die troudatum is vasgestel, die ringe is gekoop, die flat is gereed, sê hom nou jy is met die lyf. Ek sal. Sê hom nóú. Nee, ek wil seker wees hy trou met my omdat
hy wil, nie omdat hy moet nie. Ons troudag moet kommerloos wees, soos ’n troudag behoort te wees. Ons praat oor die trourok. “Not white,” sê ek amper te vinnig, ’n bietjie aggressief. “Why?” vra hy, en ek kan hoor hy is verbaas. “I like something different. Everybody wears white . . .” “You want black?” Ons lag, maar dis nie vir my snaaks nie. ’n Bybie in die maag en ’n wit rok met ’n sluier op die kop sal verkeerd wees, dit hoort nie, dink ek. ’n Mooi pastelkleur, besluit ek. “It must be special dress,” sê hy. “You marry one time.” “Ek weet, maar liewer nie wit nie.” “Wit is goed,” hou hy vol, maar ons stry nie daaroor nie.
Hoofstuk 16
Ek nooi Maggie vir ete Sondagmiddag, ook vir Kay en Dorie. Dit sal ’n goeie geleentheid wees om hulle te vertel van die troue, alles is mos nou gereël, finaal. Dis wonderlik om verlief te wees, dink ek gelukkig die oggend aan tafel terwyl ek my koffie stadig sluk. ’n Geklop aan my deur bring my terug na die werklikheid. “Pettie! Hello, hoessit, jong! Surprise!” Sy val my om die nek nog voor ek die deur behoorlik kan oopmaak. “Lettie! Kom binne, waar op aarde kom jy vandaan?” “Ma ek het mos geskrywe ek kom Joeys toe. Ek begin môre in Joburg Gen te werk, of het jy dan vergiet?” “Nee, ek het nie heeltemal vergeet nie.” Dis sommer lekker om Lettie weer te sien. “Dis mos alles wit hierso,” sê sy en rol haar oë. Hoe kry ek dit reg om hier te bly en kan sy ook hier kom bly? Al weer sulke tyd, dink ek. Die storie moet vertel word. Ek is nou wit en gaan met ’n wit man trou. Tra-la-la-la. Haar mond hang oop soos sy aan my lippe hang. Sy is byna buite haarself van vreugde, dis die beste nuus wat sy nog ooit gehoor het. Wat sê die anties? O ja, sy is jammer om te hoor van Kitty se dood, Jossie het gesê. Ons gesels en gesels en ek voel soos iemand wat ’n dop doepa inhet. Tussendeur begin ek met die kosmakery. “Bly en eet saam met ons,” nooi ek. Laki klop en kom binne. Ek stel hom en Lettie aan mekaar voor. Sy kan haar oë nie van hom afhou nie en staar hom aan asof hy ’n Griekse god is. Hy ignoreer haar entoesiasme.
“We fetch Maggie?” vra hy. Lettie sê as ek nie omgee nie, kan sy haar jongetjie vra om saam te eet? Hulle bly op die pad. Sy naam is Gert Bantjies, en hy is ’n motor mechanic. Laki kyk my ’n bietjie kwaai aan, maar hoe kan ek nee sê? Ons laai haar af by haar blyplek en beloof om haar en Gert op pad terug weer op te laai. “How she come?” vra Laki effens dik. “Iemand het haar ’n lift gegee.” Moenie fout vind met Lettie nie, dink ek, sy is my vriendin, ek is lief vir haar. Ons hou stil voor Maggie se deur. Met die intrap kan ek sien die lip is so lank dit hang amper op die grond. Laki word nou amptelik aan haar voorgestel. Hy steek sy hand uit, maar sy wil nie sy hand vat nie. “Nei, my hand is bruin, netnou smeer die kleur aan djou hand af.” Sy bekyk hom van nader, haar oë skrefies getrek. “Ek onthou djou nou. Djy was die oggend hier met Kitty se dood. Wil djy miskien aan dieselfde tafel sit as ek?” Laki verseker haar hy gee nie om om aan tafel saam met haar te sit nie. Hy probeer glimlag, maar ek kan sien hy vererg hom. “Kom nou, asseblief, Maggie,” smeek ek. Ek weet sy wil gelek word. “Is djy dan nie skaam vir my voor djou mannetjie nie?” Soebat, smeek. Soebat, smeek. Nee, sy sit nie voor by ons in die bakkie nie. Die meid sit altyd agter. Ek gee haar ’n kussing om op te sit en laat haar begaan. “She is mad,” sê Laki ergerlik, “I don’t come again.” “Toemaar, dit sal oorwaai,” probeer ek keer.
“She must be mad in her house, not my house.” Ons laai vir Lettie en Gert Bantjies op. Hulle sit ook agter. “Wie nog?” vra Laki en trap hard op die petrolpedaal. Die mense agter ruk en gryp na iets om aan vas te hou. Hy is nou regtig kwaad en ek weet hoekom. Gert Bantjies het ’n verflenterde keppie op sy kop wat hy agterstevoor om dra op ’n bos hare wat jare laas ’n kam gesien het. Sy T-hempie sê Kiss My Canary en dit hang laag oor ’n paar jeans wat dreig om af te val. Ek bekyk die drie in die truspieëltjie. Maggie se kopdoekie is styf oor die ore getrek en die mond bloedrooi gesmeer. Sy het die swart jas aan. Lettie se donkerbruin hare is netjies gevleg, maar met die dik rooi trui oor die pienk hemp, groen romp en rooi stewels wat tot onder die knieë kom, lyk sy meer soos iemand wat na ’n fancy-dress ball gaan. Aan haar ore hang geel plastiekpiesangs wat heen en weer swaai. Ek kyk skuins na Laki. Sy gesig is strak, die laglyntjies is weg. Hy kyk stip voor hom. Ons praat nie. My susters wag al. Ons stel almal voor. Laki wil weet of die kos gereed is. “I give the wine,” sê hy terwyl die mense hulle tuismaak in sy sitkamer. Gert wil weet of dit my flat is. “Nee,” sê ek, “ek bly vier deure verder.” “Djirre, djy bly somma so boetie-boetie hierso met die whities! Is djy nie bang hulle slyt djou op nie?” wil Gert laggend weet. “Ga! Pettie is mos nou wit!” snork Maggie. My nekhare rys. Hou jou bek, dink ek. “Nice flat, Laki,” sê Kay waar sy langs Faantjie op die vloer sit. Ek loop heen en weer met die skottels. Lettie help dra. “Gaan julle hier bly, ek mien nou ná die troue?” vra Lettie. “Het julle al ’n date virrie wedding?” vra Kay.
“Oor vier weke.” “Veels geluk! Dorie, het jy gehoor!” skree Kay. “Pettie trou oor vier weke!” “Hoog tyd!” skree Dorie terug van die kombuis af. Ek wens hulle wil dit nie heeltemal so hard uitbasuin nie. “Dis baie gou,” sê Maggie vies. “What’s the rush?” Ek voel skielik ’n bietjie benoud. “No rush,” sê ek kalm. “Ons het maar so besluit, dis al. Vir wat moet ons wag?” Waar’s die ring? wil almal weet. Komaan, sit hom aan, wys ons. Waar het julle die ringe gekoop? Daar’s ’n special aan by Sterns. Hoeveel het hy gekos? “Nei, dis niks om deesdae ’n ring te koep nie,” sê Gert alwetend. “Djy sit net ’n small deposit neer en hulle gee djou easy payments. Djy kan hom nog afbetaal lank na die eerste bybie!” Gert kraai van die lag. Laki skink die wyn, maar ek sien sy hand bewe. “I pay the ring. It is finish,” sê hy sag sonder om na iemand te kyk. “Nei, die man hettie geld, hy’s mos wit! Instalments is virrie bruin mense.” Hou jou bek, ou vrou. Sharrap. Maggie vat die wyn by Laki en vat ’n slukkie. “Dit proe soos Nagmaalwyn,” sê sy kortaf, maar vat nog ’n slukkie. “Nei, dis nie te bad nie, antie.” Al weer Gert. “Dis olraait.” My hart krimp. Dis goeie, duur wyn wat Laki versigtig uitgekies het. Die kos staan op die tafel en ek sit ’n paar oomblikke saam met die gaste om ons glasie wyn te drink.
“Julle het gou besluit om te trou,” sê Dorie. “Soos ek vir Maggie gesê het: ons ken mekaar al lank genoeg, die plan was maar altyd so.” “Haai, my dollie, moenie vir my sê dis ’n shotgun wedding nie! Djy is nie so lucky as djou naam nie, nè?” kraai Gert weer en wys na Laki. Almal lag vir sy stuitigheid, maar ek voel hoe my wange brand. Laki staan vinnig op. Hy begin die leë glase weer volmaak en almal hou hul glase gretig. “Ek is nou blerrie honger,” sê Gert terwyl hy die laaste druppel van sy tweede glasie wyn diep in sy keelgat afgooi. Ons sit aan. Die borde word tot oorlopens toe geskep. Ek kyk na Maggie se bord. Sy wil nie die wit man se hand skud nie, maar daar’s niks met sy kos verkeerd nie. “Hoe lyk dit met nog ’n sopie?” “Dja, myne is ok ampa leeg.” “Die Nagmaalwyn is nie so bad nie, gooi ma vir my ok ’n bietjie in.” Die tweede bottel is leeg. Almal lag en gesels oor en weer. Kort-kort word ’n vurk opsy gesit en sommer met die vingers gevat en afgelek. Gert vertel vuil grappe en wil hom doodlag vir sy eie nonsens. Faantjie kap met sy lepel op die tafel en borde. Laki is stil. Hoekom kan jy nie maar saam lag en gesels nie? wens ek. Sê net iets. Hierdie is my mense, jy het dit geweet die eerste aand toe jy kom kuier het. Kyk na hulle, praat met hulle, vir my onthalwe. Hulle is goeie mense, arm en uitbundig, maar goed. En ek is lief vir hulle. “Why so quiet, Laki?” vra Kay. Hy sê die kos is baie lekker en prop nog ’n stukkie vleis in sy mond.
“Nei, die bruin mense hinner hom,” sê Maggie selfvoldaan. “Hy het te laat wakker geskrik.” “Ag, antie, lossie man yt, hy dink aan sy wedding night!” Ek lag saam, maar voel hoe my hande bewe. Laki kyk net in sy bord. Moet ek opstaan, my arms om hom sit en sê ek is lief vir hom? “Hulle joke maar net met jou, Laki, jy’s ’n first-class ou,” sê Kay terwyl sy Faantjie se hande aan die tafeldoek afvee. Laki stoot sy stoel ver terug en staan op. “I go now,” sê hy en buk my kant toe, asof hy net met my wil praat. “Gaan jy nou al? Wil jy nie eers pudding eet nie?” “Nee, dankie. Die airport is ver, ek moet gaan. Kosta moenie wag.” Wie is Kosta? vra almal. “Hy is Laki se broer. Hy arriveer vandag, van Griekeland af.” “Nei, ma dis olraait. Ons wag vir hom, dan kan ons lekka celebrate. Wa’s die wyn?” “Finish. Goodbye.” Hy gee my ’n piksoentjie en is uit by die deur. “Is Laki kwaad, Pettie?” wil Dorie besorg weet. Ek skud my kop, skep die pudding. “Hel, ek het net nog ’n bietjie wyn gevra. Die whitey is ma suinig . . .” Waaroor is Laki kwaad? Nee. Nee. Hy is nie kwaad nie. Hy gaan lughawe toe. Hy werk hard en is moeg van die heen-en-weer-ryery, dis al. Oor ’n paar uur is hy terug. Sewe-uur die aand is daar nog geen teken van Laki nie.
Gert en Lettie het al geloop. Ná Gert in die stoel gesit en slaap het, het hy besluit hy wag nie langer vir Laki en Kosta nie. “Nei, daai whitey kommie terug nie. Ons loep nou. Kom, my cherry. Baai, djulle almal.” Sonder ’n dankie vat hy Lettie se hand en is hulle uit by die deur. Ek het nie gevra hoe hulle by die huis kom nie. Kay en Dorie is volgende. Dit word donker en hulle moet nog ver loop, hulle kan nie langer wag nie. Kay soen vir my en Maggie. “Dankie vir die lekker kos, my sussie, koebaai.” Maggie se gesig is die ene donderweer. “Die wit man het my gabring en hy vat my weer terug. Die blerrie wyn het my ’n headache gegee. Sieker cheap goed, ons is mos nie wit nie.” “Dit was duur wyn,” fluister ek amper onhoorbaar. Ek is nou net mooi siek en sat vir al haar snedige opmerkings. Sy snuif hard. Sy het ook in die stoel aan die slaap geraak, kliphard gesnork en toe beduiweld wakker geword. “She must be mad in her own house,” het Laki gesê, en ek stem saam. Maggie kyk om haar, trek die lip op ’n plooi. “Die flat lyk ma arm, nie soos ’n wit mens s’n nie. Ek het al vir wit mense gewerk wat baie, baie beter furniture het. Die gordyne lyk dun en skimpy en die prente oppie mure is almal djoune. Hy kan nie eens sy eie afford nie. Ryk wit mense het originals, in oil –” “Maggie het by die poskantoor gewerk,” val ek haar in die rede. Wat weet ek? wil sy vies weet. Sy het eers by wit mense gewerk, ryk mense. Sal die wit man ooit vir my kan sorg? “Hy kry goeie geld.” My stem is sag, ek is nie meer lus vir sinnelose redenasies nie.
Nee, hou sy vol, as sy na sy flat kyk, lyk dit nie so nie. Sharrap. Sharrap. “Miskien moet ek vir Maggie solank huis toe neem met die trein.” Nee, dis te koud. Dis te donker. Sy’s te oud. Dis te ver. “Miskien was die vliegtuig vertraag, dalk kom hulle laat eers.” “Dja, hy sal laat kom. Hy wil ons hier yt hê, hy is skaam vir ons voor sy broer. Miskien kom hy glad nie,” sê sy hoopvol, staan dan kamma met ’n gesukkel op. Sy trek haar jas rukkerig aan, vat haar handsak. Sy sug, mompel, sug. Ons is al onder en amper op pad stasie toe toe Laki se bakkie stilhou. Hy roep na my, klim haastig uit. Kosta kom agter hom aan. Ons gee mekaar ’n vinnige drukkie, ek is bly om hom te sien. Hy is jammer hulle is so laat. Hy neem gou vir Kosta na sy flat toe, dan sal hy Maggie huis toe neem. Hy en Kosta verdwyn met al die koffers en vyf minute later is hy weer by ons. Ek moet asseblief by Kosta gaan bly, hy kom gou terug. “Hoekom kan Pettie nie saamkom nie?” “Kosta is alleen.” “En ek? Wie wag miskien vir my?” “Good night, Maggie, lekker slaap,” sê ek haastig en draai om en hardloop die portaal binne. “Nei, ek sit agter!” hoor ek haar protesteer. Die hyser se deure gaan toe en ek is bly die laaste gas is huis toe. Ek en Kosta kyk mekaar aan, glimlag beleef en skud hand. “Tí kánis?” vra ek. Hoe gaan dit? “Kalá, efcharistó,” sê hy. Goed, dankie.
Die oë lag en daaraan kan ek sien hy en Laki is broers, maar verder lyk hulle glad nie na mekaar nie. Ek beduie vir hom of hy iets wil drink, onthou die Griekse woord vir koffie. “Kafé?” “Parakaló,” sê hy. Asseblief. Die blikkie Pappagalo-koffie word uitgehaal, egte Griekse koffie. Ek meet drie lepeltjies koffie af, een lepeltjie vir elkeen en een vir die kannetjie, twee lepeltjies suiker, gooi dit in die bríki met ’n bietjie water. Die bríki met sy lang steel het Laki van Griekeland af saamgebring. “You make Greek coffee in bríki,” het hy my geleer. Die mengsel rys soos gekookte melk en ek gooi dit in die klein koppies, vir elkeen ewe veel skuim bo-op. Ek bedien dit met ’n glas water, soos Laki my geleer het. Kosta neem ’n slukkie en sê: “Very good.” Ons sit aan tafel en kyk vir mekaar. Ons sukkel om te kommunikeer. So tref Laki ons aan. Die vliegtuig was laat, verduidelik hy. Hy en Kosta het eers ’n bietjie koffie gaan drink en met die gesels het dit laat geword. Hy sê hy is jammer, maar ek is nie kwaad vir hom nie. “Maggie is kwaad,” sê hy. Ek glimlag en skud my kop. Ek dink aan wat Maggie gesê het en begin lag. Die mans kyk my aan. “Maggie dink jy is baie arm. Jy het nie eens oil originals op jou mure nie.” Laki verstaan nie en ek lag nog harder. “Never mind,” sê ek uiteindelik en vee die lagtrane af. Die mans lyk albei doodmoeg en ek groet. Laki loop saam tot by my voordeur. Hy sê nie veel nie, soen my goeienag, maar nie soos altyd nie. Ek sluit oop en voor ek die deur toemaak, kyk ek weer na hom. “Is iets verkeerd?”
Hy skud sy kop. Hy het ver gery, hy is moeg. “Die mense sê almal ek moet dankie sê vir die lekker kos en die wyn, hulle het die dag geniet,” lieg ek. Hy knik. “Káli níchta, Pattie.” “Good night, Laki.”
Hoofstuk 17
Lettie en Gert daag ’n paar aande later by my op. “En waar is die lucky boy?” vra Gert. “Het djulle twee love birds al opgemaak?” “Ag toe, jy, kry nou end. Hulle was nie kwaad vir mekaar nie, dis jy wat so baie gesyp het,” sê Lettie. “Wie, ekke? Nei, wat is vier glasies dan? Wanneer celebrate ons die engagement, sweetheart?” “ ’n Verlowing is ’n persoonlike ding,” sê ek. “Ons sal dit stil vier.” “Dja, under the circumstances, nè?” sê Gert en knipoog vir my. Ek vervies my vir die man en wens hy wil verdwyn. Hulle het met die trein gekom, vertel Gert verder, maar ’n pel werk hier naby wat hulle ’n lift terug sal gee. Hy gaan hom gou soek, en met ’n “Praat djulle cherries so long” is hy daar uit, tot my groot verligting. “Ou Gert is ma slap,” erken Lettie. “Ek hou hom maar tot iets bieter kom, jy wiet mos.” Ek knik. Die ou is regtig slap. “Wat nou vannie engagement?” wil sy ook weet. Wat moet ek sê? wonder ek. Laki het gesê next Saturday, en next Saturday is oor ’n paar dae. Sedert laas Sondag is Laki afsydig en baie skaars; hy praat nie van die verlowing nie. Hy en Kosta moet hier gaan, hulle moet daar gaan, en ek sit alleen by die huis. Hoekom vat jy my nie saam nie? wil ek weet. Dis business, sê hy. Ek weet dit, maar sy Griekse vriende en kennisse moet my beter leer ken. Ek voel ’n bietjie bedruk en Lettie sien dit. “Daar is nie rêrig trouble tussen julle nie, is da?”
“Nee, maar Laki bly so besig en ek mis hom, dis al. Hy moet Kosta die besigheid leer en ook die taal. Selfs om aan die linkerkant van die pad te bestuur!” Ons lag. “Ek voel net ’n bietjie uitgesluit. Ook ’n bietjie eensaam sedert Kay uitgetrek het,” erken ek nou vir die eerste maal. “Laki sukkel ook om vir Kosta permanente verblyfreg in Suid-Afrika te kry. Hy mag eintlik glad nie hier werk nie, want sy visa sê hy is met vakansie. Dis als ’n bietjie stresvol . . .” Lettie troos. “Jy moet meer dikwels kom,” soebat ek haar, “ons moet vriende bly.” Sy lyk skepties. “Wil jy regtig hê ek moet weer kom?” “Natuurlik! Hoekom sal ek nie wil hê jy moet weer kom nie?” “Jy is nou wit, Pettie, jy sallie altyd Coloured friends kan hê nie.” “Ag nee, Lettie, moenie dit sê nie . . .” “Toemaar, kom ons los die morbid talk vir nou.” Iemand klop en maak oop. Laki en Kosta. “We come in?” vra hy. Ons groet en die mans sit, maar die geselskap wil nie vlot nie. Al is Lettie baie vriendelik teenoor Laki, is hy kortaf met haar. Dis opvallend hoe vriendelik sy teenoor Kosta is. Kosta wys na iets, sê die Griekse woord, en dan sê Lettie die Afrikaanse woord. Eers lag ons ’n bietjie saam, maar na ’n rukkie word die speletjie vervelig. Ek en Laki kyk vir mekaar. Dis duidelik hy hou nie daarvan dat Kosta so vriendelik met Lettie is nie. Laki rek ’n bietjie in sy stoel en staan dan op. “We go now,” sê hy in Kosta se rigting. “Yatí tóra?” Hoekom nou? vra Kosta. Hulle redekawel ’n bietjie in Grieks. Dis duidelik Kosta wil nie nou al loop nie. “Ek is moeg. Éla, Kosta, páme,” sê Laki weer, kom ons gaan.
Kosta staan traag-traag op, maar ek is bly toe hulle uit is. Hulle moet liewer nie vir Gert sien nie. Dis al taamlik laat toe Gert en sy pel daar opdaag. “Dis Boytjie en dis Lettie en Pettie,” word ons voorgestel. “Lettie en Pettie,” herhaal Boytjie en ons lag. Ek bekyk hom. Baie aantreklik en baie netjies. Ek kry die geur van sy naskeer, dit ruik lekker. Lettie se oë rek so groot soos pierings soos sy hom aanstaar. Sy lyk asof sy hom wil opvreet. “Ou Boytjie hier het ’n Volksie, hy sal ons hys toe vat,” sê Gert. “ ’n Bietjie koffie vir jou?” vra ek. “En wat van my, china?” wil Gert weet. Boytjie lag en sy tande skitter. Hy sit diep en gemaklik, sy arms uitgestrek oor die stoelleuning. Ons vier gesels tot laat. Boytjie leer vir onderwyser. Hy het al sy graad en is nou besig met sy onderwysdiploma. Om ’n bietjie geld te verdien totdat hy volgende jaar kan begin skoolgee, werk hy saans as kelner in die Skyline Hotel hier in Hillbrow. “Nog net ’n paar maande, dan is jy in die big money!” sê Lettie entoesiasties. “Ag nee, van wanneer af kry onderwysers so baie geld?” lag hy. “Nie bruin onderwysers nie,” voeg hy by. Ons knik. Ons weet wat hy bedoel. “Hulle moet net die vote gee, ou pel, dan gooi ons die hele donnerse lot yt en gee die bruin man wat hom toekom,” sê Gert opstandig. Dis al weer oom Bob en oompie Spykers, dink ek. Met moeite kry ons dit reg om Gert dood te praat en die gesprek in ’n ander rigting te stuur. Gert gaap aanhoudend en onbeskaamd, tot hulle opstaan en aanstaltes maak om te loop.
“Jy moet weer kom,” sê ek vir Lettie, voeg dan by: “Jy ook, Boytjie.” “Oe-la-la, djy moet pasop, ou pellie, dié cherry het ’n wit boyfriend. Hy’s Italian. Hy sal djou somma skiet by sy girl!” Ons lag vir Gert se nonsens. Die mense groet en ek is weer alleen. In my bed lê ek en luister na die stilte. ’n Ambulanssirene skree in die verte. Die motors se ligte maak skadu’s teen die muur. Wat dink jy, Laki Pappasani? Wil jy my nog hê, of het my vriende jou afgeskrik? Ek vee die trane aan my kussing af. Wat gaan aan met ons? Ek sien weer vir Boytjie in my gedagtes. Sy netjiese kort hare, die mooi bruin vel, die pragtige wit tande. Sy hande wat myne omvou toe hy groet, is warm, en ek wonder ’n bietjie oor sy agtergrond, sy mense. Ek sug.
“No business tonight,” belowe Laki. Dis Vrydagaand. Die twee mans, ek en Kay sit aan tafel. Laki lyk weer sy ou self. Kosta kielie vir Faantjie, sê dan iets vir Laki. “Kosta sê die bybie look like Greek,” lag Laki. Kay lag die hardste van almal. As jy maar weet wie sy pa is, dink ek. My suster het ’n nuwe rok aan en haar hare is op ’n ander manier gesny en netjies gekam. Sy lyk nie net anders nie, maar dis asof sy ook anders praat. Op haar kop sit ’n mooi gehekelde hoedjie, dit pas haar. Kay lyk werklik netjies en mooi, ek onthou haar nie so van die Kaap se dae nie. Laki sien dit ook raak. “You look very pretty today,” sê hy vir haar. Ek besef skielik die rede vir Kay se gedaanteverwisseling. Sy wil ook wit wees, met ’n wit man aan haar sy. Ons het nie weer gepraat oor die kwessie van aansoek doen om haar status te verander nie, maar ek sien aan haar sy wil die verandering hê. Laki se vriende is wit en as sy goed lyk, sal hy nie skaam wees vir haar nie. Wie weet, miskien slaan sy ook ’n Griek los. Die gedagte laat my
glimlag. Ou Faantjie is maar donker, maar met sy vet wangetjies, groot donker oë en diep kuiltjies is hy pragtig. “We put the ring tomorrow?” sê-vra Laki. “High time!” lag Kay. My hart bons ’n bietjie, dis al of dinge nou so vinnig gebeur, maar ek voel tog gelukkig. “Ja,” stem ek in, “môre sal goed wees.” Ek voel die voetjies teen my ribbes skop. Deesdae dra ek los klere, my ou klere pas nie meer nie. Ek kan nie glo niemand het nog iets opgemerk nie. Ek voel baie selfbewus oor my magie wat by die dag groter word. Ons besluit om die verlowing in Laki se flat te hou, myne is te klein. “Are you going to invite me, Laki?” wil Kay weet. “You want to come?” terg hy terug. “Natuurlik kom jy!” sê ek. “En Kosta, Dorie, Lettie –” “Leave Lettie,” keer hy. “Ek kan nie, sy is my vriendin, sy weet van die verlowing.” “You like Gert?” Ek weet dis Gert wat hom pla en ek beloof om Lettie sonder Gert te nooi. Daar is iemand anders wat haar sal bring, iemand baie gaaf en ordentlik, heeltemal anders as Gert, beloof ek hom. Laki sê hy wil ook ’n vriend, Peter, en sy nooi, Irene, oornooi. Hy sal sorg vir die musiek en drinkgoed, ek moet sorg vir die eetgoed. My beker loop oor. Ons praat oor Maggie en ek gee nie om om voor Kay te praat nie. “Sondag sal ek na haar toe gaan en ’n stukkie vleis saamvat en daar gaarmaak. Ek sal sommer die dag by haar deurbring en terloops sê ons is nou verloof. Van die paartie hoef sy nie te weet nie.” Kay beloof om niks te sê nie. “The less she knows, the better.”
Sy sal Sondag saam met my gaan. Laki sê hy sal ons neem en weer gaan haal.
Kay is Saterdag af en loop saam met my en inkopies doen. Faantjie is by die ousie langsaan gelos vir ’n paar rand. Eerstens ’n mooi rok vir die verlowing, besluit ons, en loop van winkel tot winkel. Dit moet iets spesiaals wees. En iets wat nie my geheim sal verklap nie, dink ek. Ek sukkel om Kay uit die paskamers te hou. By Foschini sien ek wat ek wil hê. Ek pas aan en in ’n japtrap is ons uit met die rok in ’n plastieksak. Die rok is A-line en die materiaal hang in voue van onderkant die bors. My magie is goed weggesteek. Ons moet nog kos en ander dinge koop. Ons kom moeg en voetseer by die flat aan. In ’n lekker warm bad lê en bid ek dat alles goed sal afloop. Ek en Kay spook om die eetgoed betyds klaar te kry. Net voor die mense opdaag, bring Laki die ringe te voorskyn. Die ringe moet op ’n tafeltjie langs mekaar geplaas word. Ek haal my beste kleedjie uit. Laki het rosies gekoop en dit word langs die ringe in ’n klein potjie gerangskik. Hy help om die borde en kos na sy flat te dra. Alles is gereed, ek moet nog net aantrek. Hy wag geduldig terwyl ek aantrek. Sy gesig straal toe ek uiteindelik verskyn en ek weet ek het reg gekoop. Ek wou so graag mooi lyk vir hom. Hand aan hand loop ons na sy flat toe. Die mense klap hande toe ons instap en my wange brand. Ons is wit en bruin, maar almal het kom deel in my geluk. Laki se vriend Peter maak ’n kort toespraak en volgens die Griekse tradisie steek Kosta die ringe plegtig aan ons vingers. Hy gaan ons koembáros, ons best man, wees. Laki se troupand kom aan die linkerhand en albei my ringe ook aan die linkerhand. In die kerk sal dit oorgesit word op die regterhand, volgens eg Griekse tradisie. Laki beduie weer met sy hande die tou is nou om die nek. Die mense sak behoorlik op ons toe met hul gelukwensings. Ek word oor en oor
gesoen en Laki word telkemale op die skouer geklop. Hy glimlag van oor tot oor. Dis ’n glimlag wat sê: Ek is seker, seker van jou en seker van ons toekoms. Die Grieke dans op die boeremusiek en die bruin mense op die Griekse musiek. Lettie verlaat Boytjie se sy nie vir ’n oomblik nie en tot almal se verbasing het Dorie ook met ’n jong man opgedaag. Of die kêrel wit of bruin is, weet ek tot vandag toe nie. Sy naam en nog minder sy manier van praat het hom verraai. Die mense hou aan om hul bordjies vol te skep en Laki kan nie voorbly om glase vol te maak nie. Ons staan in ’n halwe kring en Peter gooi ’n bordjie op die vloer dat dit in klein stukkies spat. Hy skree “Hóppa!” en hy en Kosta dans al in die rondte terwyl hulle elk aan die punt van ’n wit sakdoek vashou. “Hóppa! Hóppa!” skree ons ander ook. Laat dit alles vir ewig aanhou, wens ek, nes ek gewens het die dag met Kay se troue. Ek voel soos ’n heldin in ’n sprokiesverhaal. “Maak die geskenke oop,” word ek aangemoedig. Ek maak so. Eers Laki se geskenk. Eintlik maak hy dit self oop en hang die goue kettinkie met ’n goue hartjie omring deur saffiere om my nek. Die mense oe en aa en ek voel versigtig aan die hartjie. Hy soen my vol op die mond en almal klap hande. Kay se geskenk is kleedjies wat sy self gehekel het, Dorie gee ’n groot muurhorlosie, Kosta ’n paar dosyn glase, Peter en Irene ’n glasbak met puddingbakkies, en Lettie en Boytjie ’n standbeeldjie van Alexander die Grote. Die jolyt hou lank aan en dis ná middernag toe die mense traag-traag begin nagsê. By die deur word daar eers weer ’n bietjie grondgetrap voor almal hul ry kry. Dit voel soos Krismis destyds by Kitty en Maggie. Kan dit waar wees, dink ek agterna, dat soveel geluk my te beurt kan val? Is dit moontlik? Bruin kind van die Kaap dra die goue ring van die aap. Nee, besluit ek, daardie kind is weg. In haar plek is ’n vrou, wit en mooi, aan die sy van haar ridder.
Die meid is vrek, die meid is vrek, Daar’s ’n wit vrou in haar plek. Hoera! Hoera! Hoera!
Hoofstuk 18
Die volgende Saterdag neem Laki my na ’n Griekse troue sodat ek iets wys kan word. Ek is maar te dankbaar vir die geleentheid om te kan sien wat behels ’n Griekse troue als. Die bruid lyk soos ’n feëprinses en ek wonder hoe mý trourok gaan lyk. Laki praat nog steeds van ’n wit rok en ek laat hom maar praat. My pa weet nog nie eens van ons verlowing nie. Wag tot na die troue, laat hom dan weet, besluit ek. “Moenie iets sê nie,” pleit ek by my susters. “Jy kan nie stilbly nie, hulle moet weet.” “Nee, wag nog ’n rukkie,” pleit ek weer. Die paartjie hou hande vas, langs hulle staan die koembáros, die best man, wat ook die paartjie se eerste kind moet doop. Ek dink terug aan Kay se troue, hoe lekker die mense gesing het. Hier sing niemand nie, net die pappás sing uit die Bybel, op sy eie wysie. Kinders hardloop op en af in die gangetjies tussen die banke, party gaste kom laat, steek haastig ’n kersie op, soen die ikone en gaan saggies sit. Laki hou my hand styf vas. Ek dink aan Lorrain: haar enigste ideaal in die lewe was om met ’n wit outjie te trou. Wat sal sy sê as sy weet? Sal ek enigeen van my Kaapse familie ooit weer sien? My pa wat half wit is, het maklik ’n bruin vrou gevat. Hoekom kan ek, half bruin, nie net so maklik ’n wit man vat nie? Dis vir my belangrik dat my mense vir Laki aanvaar. Die paartjie loop om ’n tafeltjie, staan stil en buig effens vir die pappás wat aan die ander kant van die tafeltjie staan. Hy swaai die kannetjie met wierook heen en weer, heen en weer. Hulle loop weer halfpad om die tafeltjie, staan stil, buig. Drie keer om die tafeltjie.
Maggie se beskuldigende oë en vinger duik telkens op. Wat gaan ek met haar maak op ons troue? Ek sal haar moet nooi! Laki kan haar nie uitsluit nie. Sy het my grootgemaak soos haar eie, soos ’n ma. Sal ek dan nie my eie ma nooi vir my troue nie! En my broer? Niemand kan hulle aansien vir enigiets anders as bruin mense nie. Dié dinge bly hinder. Stewie het eenkeer van sy eksamens by die skool gesê: “Die ding worrie jou tot in jou hol.” So voel ek oor my troudag en dit maak my benoud. “Djy moet die klong van kinsbeen instrep virrie bruin lewe, dan sal hy nie lus kry virrie wit man se goete nie.” Dis Ouma van die Akkers, soos ons haar genoem het, wat so praat. Die Akkers was die Kleurlinggebied naby Goodwood in die Kaap. Ouma van die Akkers het met armoede en moeite al haar kinders na haar hand grootgemaak. My mamma was een van hulle. En tog, ten spyte van Ouma se waarskuwing het haar dogter met ’n wit man getrou, my pa. Wat gaan ek my kinders eendag leer? Van die wit man se goete of van die bruin man se goete of van die Griekse goete? Wat van die bruin man se swaarkry en seerkry, van sy gesukkel en vernedering? Gaan hulle ook die klonge vloek en vir hulle skree “Donnerse hotnots!”? My oë brand en my bene is lam gestaan. Die koembáros plaas die stéfana op die paartjie se koppe – dis die twee groot ringe wat van blomme en lint gevleg is. Drie keer word dit oor en weer oor hul koppe geswaai, dan stewig op elkeen se kop geplaas. Hulle is nou een. Daar is ’n beroering in die kerk. Mense kyk na mekaar, knik die kop, glimlag. Die ringe wat op die Bybel lê, word geseën en die koembáros steek dit aan die vingers. Man en vrou tot die dood hulle skei. Ek en Laki glimlag met mekaar. Hy gee my hand ’n stywe druk, asof hy wil sê: Nie meer lank nie, dan is dit ons beurt. Die onthaal is in ’n groot huis in ’n deftige buurt en ek word aan dosyne mense voorgestel. “Pattie is from Cape Town,” vertel Laki hulle, “we are going to get married.” Ons wys die ringe. Vreemdes soen my op elke wang, wens my veels geluk. Ou anties druk my styf vas.
“Brávo, Laki, brávo, Pattie.” “Efcharistó. Efcharistó,” sê ek. Dankie, dankie. Maar wat sal hulle sê as hulle weet? My ma was ’n bruin wasvrou wat my op die rug gedra het. Sy het gebuk oor die baddens wasgoed terwyl ek kop onderstebo geslaap het. Wat sal hulle sê as hulle weet? Mamma se broer het in District Six gebly. Hy is een aand deur die skollies beroof en gesteek. Die volgende dag is hy dood. Mamma en Dadda moes kos gee om die kinders aan die lewe te hou. Die een dogter is jonk dood, aan tering, toe een broer. Nog ’n broer is met die mes dood. Wat sal hulle sê as hulle weet? Mamma se oudste broer kon nie geleerdheid kry nie, hy het gaan werk om sy familie te help onderhou. Op veertien het hy op die steenkoollorries gaan werk. Elke aand kom hy huis toe, so swart soos roet. Dan moet Ouma van die Akkers help skrop. Warm water word van die vuur aangedra en in die badjie gegooi. Eers net om die ergste af te was, dan nog een, en uiteindelik die derde emmer. Sy hande was vol blase, sy rug seer en voor sy tyd kromgetrek. Dit alles vir ’n paar pond. Wat sal die mense sê as hulle weet? My mamma het net vier jaar se skool gehad, my dadda het tot standerd sewe gegaan en is toe uitgehaal om te gaan werk. Met die donkiekar het hy groente en vrugte help verkoop. Wat sal die mense sê as hulle weet? “My eerste paar skoene het ek self gekoop,” het Dadda eenkeer vertel, “toe ek elf jaar oud was. Ek het deur die veld geloop, soos die wit mense nou van die trein af loop, en ek tel ’n pondnoot op. By Hadji Stores is ek in en binne five minutes toe loop ek uit met ’n paar tan shoes. En ek het nog ’n shilling oorgehad vir my ma.” Wat sal die mense sê as hulle weet? “Éla, éla! Chórepse!” Kom dans, roep die Grieke, en ons gaan dans. Laki vat my hand en lei my die sirkel in. Al in die rondte, al in die rondte. Twee treë terug en drie treë vorentoe. Al in die rondte, al in die rondte.
Die troue is verby, die paartie is verby en ons is pootuit gedans. Nou lê ek en
terugdink. Die jolyt van die troue laat my dink aan Guy Fawkes. “Pennie virrie guy, pennie virrie guy!” Die wit mense gooi die pennies en ons kinders skarrel heen en weer om op te tel. Straatop en straataf. Hoog op die stok dra ons die guy. Hy is gemaak van gedroogde gras en stokkies, ou verflenterde klere aangetrek, ’n hoed op die kop gesit en dan op die paal vasgemaak. Ons swaai die paal diékant toe, dan daaikant toe, en ons sing: “Pennie virrie guy, pennie virrie guy!” Die wit kinders skater van die lag en party hardloop saam, meegesleur deur die jolyt van die bruin kinders, ons uitbundigheid, ons malligheid. Ons het elkeen ’n blikkie in die hand en in die deksel is ’n openinkie, groot genoeg vir die pennie, want die pennie was groot. Die grootmense kom uit op die stoep en gooi die pennies na ons. Hulle lag, party gooi klappers die straat in, maar dis nooit na ’n kind gemik nie. Met die harde bam! skrik die kinders en skree vreeslik, hardloop heen en weer, kamma bang. Dan begin die voorbokke onder die klonge te dans. Die boude word geswaai en die voete gestamp. Ons klap hande en skree al harder: “Pennie virrie guy, pennie virrie guy!” Die geld reën op ons, maar alles net pennies. Die wit buurte naby ons was ook arm, nes ons het hulle ook die pennies nodig gehad. As al die gedans en gekskeerdery verby is, gaan ons terug na ons buurt. Daar op die ou veld maak ons ’n hopie van gras en droë stokke en plant dan die guy op sy paal in die middel van die hoop. Iemand gaan haal ’n bietjie petrol of spirits en gooi dit oor die guy. Die guy word aan die brand gesteek en die vlamme jaag die lug in. Dan dans ons éérs met voete wat hier stamp en daar stamp, ons skop die sand en die wolkies stof laat ons hoes. Nou is dit die bruin mense se beurt om die pennies te gooi. Ons skud die blikkies sommer hard onder hul neus, heeltemal uitgelate en voorbarig van plesierigheid. Party mans is dronk en dans saam, maar hul vrouens kom gryp hulle en sleep hulle huis toe. Daar is geen keer aan ons nie. Eers as ons mammas ons hard kom roep, gaan ons
huis toe, elkeen met sy blikkie. By die huis word die geld getel en die volgende dag word daar gebrag oor wie die meeste pennies gekry het. Lekker dae. Soet dae van geluk en blydskap en sorgeloosheid. Ons armoede het ons nie te veel gehinder nie, almal om ons was ook arm. Net wintertyd het ons die ryker kinders hul warm jasse en skoene beny. Ag, as ek maar net een so ’n kommerlose dag kan herleef! Net een. Maar dis verby, vir altyd. ’n Wit vrou by wie Mamma gewerk het, het eenkeer gesê: “Julle bruin mense se lot is swaarder as ons s’n, maar julle klink altyd so gelukkig. Julle gesels en sing en dans, julle is sulke uitbundige mense!” En dis waar. My mense is so. My mense! Ek skrik. Nee, hulle is nie meer my mense nie. Ek rol om en druk my voorkop teen die koue muur. Wie ís nou eintlik my mense?
Hoofstuk 19
Hy staan voor my en hy glimlag. “Mag ek maar inkom, Pettie? Dis ’n soort van ’n emergency.” “Hallo, Boytjie. Wat’s fout?” Sy gesig is die ene erns. Hy kom haastig in en ek bekyk hom vlugtig waar hy voor my staan. Grys broek, blou sportbaadjie oor ’n warm trui. Ek ruik weer die naskeer, of miskien is dit seep. Sy lippe is saamgepers. “My broer het my gebel by die werk. Sy vrou, Katrien, is met die lyf en die bybie wil nou kom. Hy het nie motor nie en die ambulans sal te lank vat, boonop is die vroedvrou siek wat met die bevalling moet help. Hulle ken nie die bure goed genoeg om hulp te vra nie. Katrien is bang, hulle wil hê ek moet iemand saambring wat ek vertrou, iemand wat kan handjie bysit.” Hy lyk effens verleë, gaan dan voort: “My broer ken die storie. Hy het altyd gehelp met sy eerste vrou en die klomp seuns, maar Katrien wil tog ’n vrou by haar hê.” My mond gaan oop om te sê wat op aarde weet ek nou van kindergeboorte af. “Ek is nog nie ma nie,” sê ek net. “Nog minder is ek pa, maar ons kan darem handjie bysit, of hoe?” vra Boytjie, weer verleë. Ek gryp haastig ’n trui en ons hardloop die trappe af. Eers toe die motor wegtrek, kom ek tot verhaal en skrik ’n bietjie. Wat weet ek van Boytjie af? Sê nou hy ry met my êrens die bosse in? Hy kon vir my ’n liegstorie vertel het. Ek loer skuins na hom. Die stompgesnyde hare staan penorent op sy kop. Borselkop. Hy byt op sy onderlip terwyl hy vet gee. Sy kakebeen is sterk en sy voorkop amper te groot vir sy gesig.
Ons laat Hillbrow agter ons en ry die donker nag in. Ons praat nie veel nie en my hart klop wild. Wat weet ek van geboortes af? My kennis kom van boeke, van hoorsê, nie van ondervinding nie. Boytjie konsentreer net op die pad voor hom. Hy lyk werklik bekommerd, dink ek. Skielik swaai die kar na links en ek beland amper op sy skoot. “Jammer, Pettie, ek ry te vinnig . . .” ’n Entjie verder trap hy rem en ek keer met my hande voor teen die ruit. Boytjie spring uit en ek agterna. Ons klap die deure hard toe en Boytjie sluit vinnig. Voor ons is ’n draadheining, half platgetrap. Ons klim sommer oor en hy hou my arm vas sodat ek nie struikel nie. Hy klop hard aan die afgesplinterde voordeur. Met die eerste klop word die deur oopgeruk. “Boytjie! Dankie tog, kom in,” sê ’n man en hy klink verlig om ons te sien. Hy lei ons na ’n kamer waar ’n kreunende vrou lê. Sy is natgesweet van die pyn en haar oë lyk groot en bang. Ek sluk hard; daar’s nie nou omdraaikans nie. “Is die bybie nog nie daar nie?” vra Boytjie dadelik. “Nei, maar hy gee die pyn,” sê die vrou met moeite. “Hy maak my mal. Ek sien djy het toe iemand saamgebring.” “Ja, Katrien, dis Pettie Peters, ’n vriendin. Sy gaan help. Pettie, dis Katrien en Koos.” My glimlag toe ek groet, is styf van bangheid. Wat moet ek doen? Ek dink terug aan die dinge wat ek by mense gehoor het. My mense in die Strand het almal ’n vroedvrou by geboorte gehad, en dan moes die huismense noodgedwonge bystaan en handjie bysit. “Is daar miskien warm water en skoon handdoeke? Ons sal die bybie en ook vir Katrien ’n bietjie moet was as dit eers verby is. Kom ons haal sommer die beddegoed af en gooi koerantpapier oor,” sê-vra ek. As iemand iets anders voorgestel het, sou ek dit ook gedoen het. Katrien kreun weer hard en ek trek vinnig my asem in. Laat alles tog goed afloop, bid ek. “Dadda, is dit die bybie?” roep ’n kinderstem.
“Nee, nog nie. Antie Pettie het saam met oom Boytjie gekom om Mamma te help,” antwoord Koos. Die mans verlaat die kamer en gaan kombuis toe. Ek kyk na Katrien. Die sweet tap haar behoorlik af. Haar gekreun klink amper soos ’n sterwende en dis duidelik die bybie is op pad. Ek gaan staan langs haar en vat haar hand. Die natgeswete hand is warm, haar vingers strengel om myne. Ek vryf haar hand om ’n bietjie aanmoediging te gee. Deur die pyn glimlag sy vir my. “Ek’s bly djy is hier. Ek’s bang virrie hospital, djy verstaan, mense gaan daar dood.” Sy klink soos Maggie wat wal gooi toe ek sê Kitty moet hospitaal toe, maar ek knik. Ek verstaan. Met die versekering dat ek binne ’n minuut terug sal wees, gaan soek ek die mans in die kombuis. Daar sit vier klein kinders om ’n tafel, elkeen met ’n beker tee voor hulle. Boytjie staan voor die koolstoof. Van die ander kamer kom Koos aangestap met koerante en ’n handdoek en ’n emmer. Hy maak die emmer half vol met warm water wat hy van die koolstoof afhaal. “Dis al skoon handdoek,” maak hy verskoning en dra die emmer water kamer toe. “Pettie! Kom gou!” roep die vrou. Haar knieë is gebuig en ek kan sien sy druk. “Jy moet net druk as jy die pyn voel,” sê Koos. Ek reken met vier kinders weet hy iets van dié dinge af. Versigtig maar vinnig stroop ek die bed en gooi koerantpapier oor. Katrien rus, skep asem, die pyn kom en sy druk weer. Ek hou haar hand vas, haar been vas, en met elke druk wil ek saamdruk. “Ek kan die koppie sien, Katrien, nog net ’n bietjie druk . . .” moedig Koos haar aan. Hy sit sy arm om haar skouers en help haar op dié manier om makliker en harder af te druk. ’n Klein, glibberige lewetjie gly in my hande in en ek sien vir die eerste keer hoe
ek bewe. “ ’n Seun!” skree ek amper en Katrien lag. Koos staan op en bekyk hom van nader. Hy slaan sy hande saam en hou dan sy kop vas. “Ag nee, nie nóg ’n seun nie!” roep hy kamma teleurgesteld uit. Sy oë blink en ek verbeel my ek sien trane. “Dis mý eerste seun,” sê Katrien sag en trots. Koos gaan sit op sy hurke langs die bed. Hy hou Katrien se hand vas. “Dis nou als verby, nè? Nou’s jy rêrig ma,” sê hy saggies, vertroulik, asof ek nie daar is nie. “Ek dink die naelstring moet gesny word . . .” sê ek huiwerig. “Waar’s die skêr?” “Ja, hy moet eers vasgebind word. Hier’s dit, Pettie.” Koos gee die skêr en twee stukkies tou wat gereed lê. “Maak twee knope,” beduie hy. “Hierso en hierso. Sny hier.” Ek maak twee knope ’n paar duim uitmekaar, hoop vir die beste, en sny. Die kind is los van sy ma. Ek draai hom in ’n babadoek toe. “Vat so,” sê ek vir Koos, bly om van die kleinding ontslae te wees. Ek is die ene bewerasie en bang ek sal hom laat val. Waarom weet ek nie, maar ek voel skielik tranerig. Is dit hoe my bybie gaan lyk? So pragtig en volmaak? Koos hou die bybie baie behendig vas terwyl hy hom goed bekyk. Die nageboorte moet uit, Katrien moet weer druk. Koos staan eenkant in die hoek met sy bybie terwyl ek Katrien afwas. Ek sit skoon lakens op die bed, trek haar skoon nightie aan en maak haar gemaklik. “Ek is so bly djy het gekom. ’n Mens het ’n vrou hierie tyd nodig, wiet djy. Dankie, Pettie. Ek sou bang op my eige gewies het, want dis my eerste bybie. Ek is nou wel ma vir Koos se seuns, ma djy verstaan . . . Dankie dat djy gekom het. Koos weet van dié dinge af, maar nogtans, djy wiet.” “Ek is net baie dankbaar alles het goed afgeloop.”
Koos staan nader met die bybie. “Gaan jy hom was? Hy’s vol bloed en stink ’n bietjie.” Ek en Katrien lag. “Pettie sal hom was,” sê sy. Sonder seremonie word die bybie in my arms gedruk. My hande bewe nie meer so erg nie, maar daar is nog ’n knop in my keel wat nie wil weggaan nie. Die bybie word lê-lê gewas en aangetrek. “Hy is so kleinkies, dit voel asof hy kan breek,” sê ek vir Katrien. “Dja, dis so. Ek gaan bang wies om hom te bad.” Dis koud en ek draai hom styf toe in die wrapping blanket en dan in sy dikker kombersie. “Moet hy nie nog ’n kombers kry nie?” vra ek soos ’n sot en voeg dan by: “Die kamer is baie koud.” Katrien kyk my aan met oë wat verskoning vra vir die armoede en ek kan myself ’n skop gee. “Gee hom myne en vou dit maar dubbel,” sê sy. Op haar bed is daar ook net twee komberse, maar ek vat die dunste een en vou dit ’n paar maal. Die seuntjie verdwyn onder die komberse en ek weet hy sal gou warm kry. Ek maak die kamer aan die kant en gaan kombuis toe. “Is daar ’n bietjie koffie vir Katrien?” “Ja, hierso, ek het dit al klaar gemaak,” sê Koos. “Kom kyk na julle boetie, hy is nou skoongewas,” sê ek vir die vier wat my nog steeds aanstaar. Soos een man spring hulle op en hardloop kamer toe. Agt ogies bekyk die nuwe boetie. “Haai, hy is klein soos ’n hondjie,” sê een. Ons lag almal. Die seuntjies verwonder hulle aan die piepklein gesiggie met die
swart donsies wat net so effens by die kombers uitsteek. “Olraait, julle, die show is over. Dis slaaptyd. Sê good night.” Koos maak sy stem kamma kwaai. Die kinders soen Katrien, hul pa en hul oom Boytjie, groet my skaam en verdwyn. Ek sit aan die voetenent van die bed. Boytjie staan eenkant en Koos sit op sy hurke voor Katrien en sy nuwe bybie. “Dis nou alles verby, nè,” sê hy weer en vryf liefies oor sy vrou se arm. Iets ruk aan my hartsnare. Laki het gister ook so liefies aan my geraak, maar ek het my rug stokkerig gehou en weggedraai. Ons het lanklaas lepelgelê, lanklaas mekaar geliefkoos soos vroeër. Hy sal sien ek is met die lyf en ek wil nie hê hy moet só uitvind nie. Ek weet nie hoeveel langer ek kan wal gooi en verskonings uitdink nie. Katrien drink die warm koffie. “Thank goodness Pettie was hier om te help,” sê Katrien saggies, voeg dan by: “Ons het nog komberse nodig, Koos, dis koud.” Ja, sug Koos. Ek weet hy dink komberse kos geld. “Wag ’n bietjie,” sê Boytjie asof hy skielik iets onthou. Hy draai vinnig om en ek hoor hom by die voordeur uitgaan. Oomblikke later is hy terug met ’n groot sak. Hy gee dit vir Katrien. “Ek weet nie of ek reg gekoop het nie,” sê hy skouerophalend. “Dit lê al lank in die kar se boot, ek moes dit al kom gee het.” Katrien sit haar koffiebeker op die tafeltjie langs die bed neer en steek haar hand in die groot sak. “Haai, Boytjie, djy moes nie so gemaak het nie!” sê sy. Sy bring twee kombersies te voorskyn en twee babapakkies en ’n warm japon vir haar. Daar is babaseep en -poeier ook en ’n ligblou handdoek. “Blou,” sê sy en hou die komberse ’n bietjie omhoog vir ons om te sien. “Blou,”
sê sy weer en wys ons die babapakkies. “Djy het gawiet dis weer ’n klong, nè!” lag sy en ons lag saam. “Ag, dit was sommer net ’n raaiskoot, maar met vier seuns dink ek dit was ’n goeie raaiskoot!” Katrien streel weer oor die klein gesiggie met die toe ogies langs haar. Haar eerste kind, haar eerste seun. Ek sien hoe haar oë blink, maar die onderlip bewe. Ons sê almal nag en Koos wil die kers doodblaas. Nee, sê Katrien, sy wil nog die klein gesiggie bekyk. Die skadu’s teen die muur is skielik sagter as vroeër. Ons drie gaan sit om die kombuistafel. “Dankie, Boytjie, vir die bybiegoed en so aan. Jy is goed vir ons, maar jy moenie jouself short doen om vir ons te help nie . . .” “Ag toe nou, dis niks,” sê Boytjie ’n bietjie beskeie. Koos bedank my vir die soveelste keer. “Weet jy wat, Koos? Dis die eerste keer dat ek ’n baba se geboorte sien, ek bedoel, van die begin tot die einde, in real life. Ek was baie bang. Ek weet niks van sulke goed af nie, ek sou die eerste een gewees het om te hol as iets verkeerd gegaan het!” Die mans bars uit van die lag. Ek kry skielik skaam. “Nou is jy mos experienced vir die next time!” sê Koos en vee eintlik lagtrane af. Hy staan op en haal die ketel van die stoof af, die water kook. “Nog koffie, Boytjie? Pettie het nog nie gehad nie.” “Gooi maar,” sê Boytjie, “my senuwees het dit nodig.” Koos klap-klap Boytjie op die skouer. “Hulle sê mens raak gewoond aan dié dinge,” filosofeer hy, “maar ek sê jou, dis ’n lieg. Ek was vanaand nog net so bang soos daai eerste keer.”
Die lekker geur van koffie vul die kombuis. Koos maak verskoning dat hy nie iets te ete het nie, onthou dan die beskuitjies in die kas. “Nee,” sê ek en Boytjie, “hou dit vir die kinders.” Hy los dit, kom sit weer, blaas in sy beker. “Ek is bly julle is hier. Dis lekker om met iemand te gesels. Ek bedoel nou iemand anders as Katrien, julle verstaan. Is dit nou jou girl, Boytjie?” Hy kyk in my rigting en lig sy wenkbroue so effens. “Ek wens sy was! Nee, Pettie is reeds verloof. Ons het mekaar deur Gert ontmoet, jy onthou hom mos? Gert gaan uit met Lettie, Pettie se vriendin.” Koos vertel van sy eerste vrou. Siena is ’n jaar gelede aan haar bors dood, drie maande later vat hy vir Katrien. Die mense het baie gepraat oor die gou-trouery, maar hy en die kinders het ’n vrou en ’n ma in die huis nodig gehad. “Jy het die regte ding gedoen, Koos,” sê ek. “ ’n Kind het ’n ma nodig.” Ek vertel hom dat my ma dood is toe ek agt jaar oud was. Van die trane en die onvermoë om haar dood te verwerk. Hy verstaan. Katrien kan die seuns opeet van liefde, en hulle vir haar. Hulle is nou nege maande getroud, maar dit was die regte ding. Die mense praat nie meer so baie nie, sê hy, hulle sien sy is goed vir hom en die seuns. “Ja,” sê Boytjie, “dit was die regte ding. Katrien is goed, baie goed. En sy’s mooi.” Koos glimlag tevrede. Hy knik. “Die huis word nou te klein,” sê hy. “Dis goed dat dit nog ’n seun is. Waar sou ’n dogter tussen al die seuns inpas? Die huis is net die kombuis en die twee kamers. Die toilet is buite. Binne is net een koue kraan, geen badkamer nie. Waar sou ’n dogter aantrek en was?” “God weet altyd wat die beste is,” sê ek. “Ek het ’n groter huis nodig, maar waar gaan ek dit kry? Ons is bruin mense onder die wit man se law.” Hy vat ’n sluk koffie, praat dan verder. “Ek is ver van
die skole af. Die kinders loop kaalvoet, somer en winter. Ek kry hulle jammer, maar wat kan ekke doen? Jy is bruin, sê hulle, soveel is jou pay. Take it or leave it.” “Watse werk doen jy?” “Ek is in die building industry. Eintlik ’n bricklayer, ma ek doen ook plastering, sit sometimes ceilings in, vensters in, ma nog is die pay min. Jy is bruin, take it or leave it.” Hy sit met geboë skouers, die leë beker in sy groot, growwe hande. Sy bruin oë kyk verby my, na die kamertjie waar sy jong vrou en nuwe seun lê. Dis duidelik hy dink aan hulle. “Ek het al baie gebid dat die liewe Heer in sy goedheid en grootheid die wit man se oë sal oopmaak vir die bruin man se benoudheid oor sy toekoms.” “Ek weet Hy sal,” sê ek, en voeg dan saggies by: “Eendag.” Koos gee ’n effense grynslaggie. “Nee, die wit man se oë is permanently toe. Toe vir ons, anyway. Ek het my baas gevra vir meer geld, daar is nog ’n bybie wat kom, sê ek. ‘Nee,’ sê hy, ‘julle bruin mense moet ophou om so baie kinders te maak.’ Ek sê vir hom: ‘Meneer, dis ’n nuwe vrou, sy wil ook kinders hê, meneer weet mos ek het weer getrou.’ Hy weet van Siena se dood. Ek het net een kind meer as die baas, maar al het die wit man tien kinners, kan hy nog vir hulle sorre. Die geld is daar, die hys is daar.” Hy kyk my diep in die oë. Ek kyk terug en sien die diep lyne om sy mondhoeke en oë. Hy skud sy kop, moedeloos, trek sy oë skrefies. “Ek haat die wit mense,” sê hy stadig, bitter. Ek skrik. ’n Bangheid omvou my en ek wil huis toe. Toe onthou ek hy weet nie ek is wit nie. Op pad terug praat Boytjie nie veel nie. “Sal ons dit waag om by ’n padkafee stil te hou?” vra hy later.
“Sal ons dit waag om weggeja te word?” vra ek. Hy hou voor my flat stil. “Ek het ’n lekker souttert in die kas,” nooi ek hom. Ons gaan sit by die tafel. “Sal Laki nie omgee nie?” vra Boytjie met ’n frons. Ek antwoord nie dadelik nie, kou eers ’n bietjie aan die souttert, vat ’n slukkie tee. “Ek meen, dat ek nou so laat hier allenig saam met jou is en . . .” Ek hoor hoe hy oor die woorde struikel, maar ek weet wat hy bedoel. “Maak nie saak nie,” sê ek ewe grootbek. Dis baie laat en Hillbrow is nie so lawaaierig soos altyd nie; die gewone rumoer is ’n bietjie gedemp. Ek vang skielik sy oog, sien die laggie op die aantreklike gesig en ek glimlag. Toe lag ons albei hardop. “Nee, dis net snaaks, ons ken mekaar skaars en nou sit ons hier en souttert eet eenuur in die môre,” sê ek. Hy aarsel. “Sorry as ek nou die verkeerde vraag vra, maar gaan jy regtig met Laki trou?” Ek glimlag en trek my skouers op. “Ek is nou classified white, ek kán net met ’n wit man trou, en ek is baie lief vir Laki. Ek het aansoek gedoen vir die witpapiere om met Laki te kan trou.” My stem klink nie baie oortuigend nie, dink ek. Miskien is dit net moegheid. “Is jy werklik gelukkig, Pettie? Jy lyk nie soos iemand wat een van die dae trou nie. Is alles al gereed en gereël?” Ek sug diep. Die man krap nou en dit maak seer. “Op die oomblik voel ek nie baie gelukkig nie, en nee, ek het nog niks gereël nie.” “Jammer, jong, ek vra te veel,” sê hy haastig, verskonend. Skielik voel dit vir my of ek wil huil, asof ek hierdie half-vreemdeling alles wil
vertel, asof ek sy hulp wil inroep vir ’n onbegonne taak. Ek voel soos ’n gek. Boytjie sien die ontsteltenis op my gesig. “Pettie, wat is verkeerd?” Hy lig my ken effens met sy wysvinger, kyk diep in my betraande oë. “Ek weet nie. Ek het nog altyd gedink ek is lief vir Laki en as ek eers wit is, sal alles regkom, maar nou . . .” Ek aarsel, sluk hard. “Maar Boytjie, as ons eers getroud is, sal ek nooit weer na my mense toe kan teruggaan nie, dit weet ek nou. Met my troue sal ek my ou self, die bruin Pattie Peters, vir altyd afsny van my eie mense. Daar sal geen terugkeer wees nie en ek weet nie of ek dit wil doen nie. Maar doen ek dit nié, verloor ek Laki, en wat dan van die bybie . . .” praat ek my mond verby. Ek byt op my onderlip. “Watter bybie?” Toe weet hy. Hy gee my arm ’n vinnige drukkie. “Ag, ek is jammer, regtig jammer.” Ja, dink ek, ek ook. Ek is ook baie jammer. En spyt. Die bybie bemoeilik sake net. “Anyway, hoe kan ek nou kop uittrek?” sê ek. “Laki sal baie seergemaak voel en hy sal kwaad wees. Maar hy kan eenvoudig nie die bruin mens se gevoelens verstaan nie, nog minder ons liefde vir ons eie mense. Ek is op slot van sake nog bruin, die witpapiere maak my nie wit nie.” Nou voel ek opstandig. “Dis nie net die kleur van jou vel wat bepaal aan watter kant van die draad jy sit nie, dis die lewe. Hulle vloek jou: ‘Voertsek, hotnot,’ en dan weet jy: ‘Ek is nie wit nie.’ Hulle druk jou in ’n pondok en sê: ‘Sit hierso, vrek hierso,’ en dan weet jy. En jou hele lewe lank weet jy dit, hulle laat jou dit nooit vergeet nie.” “En Laki? Laat hy jou dit ook nie vergeet nie?” vra hy sag. Ek skud my kop. “Hy is anders. Hy aanvaar my soos ek is en hy is baie lief vir my, maar hy is definitief nie lief vir my mense nie, en dis waar die seer lê. Ek voel soos ’n verraaier vandat ek wit geword het.”
Ek snuif hard en vee trane af. “Kyk hoe gaan my troue lyk: my antie wat my grootgemaak het, sal nie na die troue kan kom nie, sy is te bruin. Lettie is my beste vriendin, maar ook vir haar wil hy nie hê nie, sy gaan uit met Gert en Gert is ook te bruin. My susters lyk wit, maar my broer is te bruin. Almal wat te bruin lyk, staan eenkant toe en verdwyn uit my lewe, maar dié wat wit lyk, staan aan die ander kant, vir julle sal ons kom kuier. Wanneer ons tyd het.” Ek lag, maar Boytjie lag nie saam nie. Hy weet ek probeer nie snaaks wees nie. “Maar Boytjie, ek is lief vir my antie, my vriendin, my broer. Hulle is deel van my! Ons kan saam praat, saam huil. Verstaan jy wat ek probeer sê?” Hy gee my hand ’n drukkie. “Ek weet presies wat jy bedoel.” Die tissue is nat. Met die tafeldoek se punt vee ek oor my oë. “Ek voel nou soos ’n gek,” sê ek verleë. “Jy is alsbehalwe ’n gek, Pettie. Ek wens net ek het jou al vroeër leer ken, voor Laki . . .” Hy kan nie verder nie, kyk weg. “Maar ek ís nou wit. So sê die papiere, anyway.” “Jy kan dit verwerp. As jy wil.” “Ek sal Laki verloor,” sê ek amper verskrik. “En as jy hom behou? Wat verloor jy dán?” Ek het nie antwoord op sy vraag nie, maar die gedagte aan wat ek gaan verloor, loop by my oë uit en ek snuif. Boytjie steek sy hand in sy sak en gee sy skoon, opgevoude sakdoek vir my. Ek snuit hard, vee nog ’n maal oor my oë en kom dan tot bedaring. “Vanaand het jou broer Koos mooi gepraat, uit sy hart gepraat. Maar sou hy so gepraat het as hy geweet het ek is wit? Sou hy hoegenaamd met my gepraat het?”
Boytjie druk weer my hand. “Pettie, jy moet weer goed oor alles nadink, dis al raad wat ek jou kan gee. As jy eers getroud is, is daar nie uitkomkans nie. Jy maak ’n belofte in die kerk aan jou man en ook aan God. Dan is dit bekhou, uithou en aanhou.” “As ek nie met Laki trou nie, wat van die bybie?” “As ’n man lief is vir jou, sal hy met jou trou, bybie en al.” My oë is weer nat. Dis die moegheid wat nou praat, sê ek met ’n glimlag, miskien is dit tyd dat hy . . . Hy staan haastig op. “Mag ek weer inloer? Ek sal probeer om nie alleen te kom nie,” sê hy met ’n laggie. By die deur groet ons. Ek moet praat met Laki, miskien kan ons die troudatum ’n bietjie uitstel tot ek sekerheid kry. Ek knik meganies. Uitstel tot wanneer? Tot na die bybie se geboorte? Die moegheid vreet aan my. Met klere en al val ek in die bed. My brein is suf. Môre sal ek weer oor als dink, maar ek wonder tog waar die weifeling nou vandaan kom. Was dit nog altyd daar? Ek onthou die geluk van my verlowing. Toe was ek seker. Of miskien was ek net verlig dat die bybie nie onwettig sal wees nie, ek weet nie. Nou twyfel ek of ek ooit weer seker kan wees oor ons toekoms saam. Laki, wat sal jy sê as jy my gedagtes kan lees? Wat sal jy sê? Van die eerste dag af het jy my onvoorwaardelik aanvaar. Dis een van die redes hoekom ek so lief is vir jou. Ek snik weer. Hoekom kan jy my mense nie ook aanvaar nie? Hulle aanvaar jou. Is die bruin vel dan so afstootlik . . . Die trane vloei. Ek kan nie my mense prysgee nie, ek kan nie! Ek dink met ’n skok wat Maggie sal sê as ek nou moet kop uittrek. Hulle sal dink dis hý wat my in die steek laat, oor die bybie. “Ek het gawiet dit sal gebeur,” sal Maggie selfvoldaan sê. “Eers mors hy met haar en noudat sy met die
lyf is, djaag hy haar weg. Vuilgoed. Die wit mense is almal dieselfde, vuilgoed.”
Hoofstuk 20
Die telegram lê en wag toe ek die aand tuis kom. “I hope it is good news,” sê Laki terwyl ek die koevert oopskeur. Ek lees en my hart sink in my skoene. “My pa kom,” sê ek platweg, voeg dan by: “En sy vrou.” “Very nice. Wanneer?” “Môre.” Ek sug hard. “Is jy nie happy?” wil hy weet. Ek haal my skouers op, sak in ’n stoel neer en maak my gesig met my hande toe. “What is wrong?” vra hy weer, buk laag oor my. Antie Mona is wrong! wil ek skree, sy is te donker. Ek bly in ’n wit gebied. “Ek is net moeg,” sê ek. Waar gaan my pa-hulle slaap? Behalwe vir my bed is daar net ’n bank vir een mens om op te slaap. Ek sal ’n plan moet maak, miskien ’n sponsmatrassie koop, en beddegoed. Ag nee, nie nog uitgawes nie. Dan tref die skok my eers. Hoe lank gaan hulle bly? Sal hulle nog hier wees met die troue? Het iemand miskien klaar vir hulle van die troue gesê? ’n Gevoel van moedeloosheid spoel oor my en dreig om my saam te sleep. “Ek moet beddegoed gaan koop,” sê ek vir Laki. Laki vra uit oor my pa, hy wil weet watse soort man is hy. Ek weet nie watse soort man hy is nie, maar ek weet watse soort mens hy is. Effens verfynd, saggeaard, lief vir blomme en tuinmaak, goed belese, in die besonder lief vir Nadine Gordimer se boeke, en hy kan gedigte skryf. Hy is
sonder fiemies, netjies op sy persoon en kan lekker gesels. Ongelukkig nie ’n baie goeie pa nie. Hy het my immers weggegee. Hoe sê ek dit vir Laki in ’n taal wat hy kan verstaan? “He is good to his wife. A nice man.” Dis al wat ek sê. Laki lag. Dis nie wat hy verwag het om te hoor nie. “Jy koop die rok? Klaar?” “Watter rok?” vra ek soos ’n idioot. In ’n gebaar van hulpeloosheid, miskien hopeloosheid, maak hy sy oë toe, gooi sy arms omhoog en val hard in die oorkantse stoel neer. “Ons trou. Ja? Nee?” “O . . . ja.” “Jy het rok?” “Nee, nog nie.” “Ons gaan saam, ons koop die rok.” “Nee, dis nie reg nie. Ek moet alleen die rok kies. Jy mag nie die rok voor die troue sien nie . . . of so sê hulle.” “Wanneer jy koop rok? This year, next year?” “Laki, ek moet reëlings tref. My pa-hulle kom, onthou.” “Ons trou, onthou.” Die volgende dag werk ek net tot twaalfuur. Ek gaan koop ’n sponsmatras en lakens. Die komberse is te duur, dit sal moet bly, ek is seker my pa sal hulle eie komberse saambring. Twintig minute voor die tyd staan ek en Kay al op die stasie. Kay borrel oor van excitement, maar ek is meer ingetoë. Voor ek by die flat uit is, het ek my ringe
afgehaal en in die kas gebêre. My pa-hulle het twee tasse, elkeen met ’n belt vasgemaak om dit toe te hou, ’n rol komberse en nog ’n carrier bag. Antie Mona omhels ons en soen ons asof ons haar eie verlore kindertjies is. Sy is so vet soos altyd en my pa so lank en maer soos altyd. “Welcome, welcome,” sê Kay tussen die soene deur. “Julle lyk baie goed en gesond. Welcome, welcome,” en sy omhels onse pa vir die soveelste maal. Antie Mona kyk ons goed deur. “Julle lyk alte smart,” is haar uitspraak, en voeg dan by: “Pettie het sommer lekka vet geworre!” Ek en Kay help dra, want ons het vooraf besluit ons kan nie ’n taxi bekostig nie, ons sal moet loop. Ons weet antie Mona dra die beursie en sy sal definitief nie wil bydra vir ’n taxi nie. Ek loer in die carrier bag en sien die dik boek, ook ’n paar magazines. “Wat lees Dadda?” vra ek so in die loop en wys na die sak. “Dis ’n boek wat ek van my baas gekry het. Ons is albei lief vir lees. Die boek se naam is Cathedral, deur Nelson de Mille. It’s about Northern Ireland en sy mense, and a political situation which . . .” praat hy voort, ’n bietjie Engels, ’n bietjie Afrikaans. “Bly djy baie ver, Pettie?” skimp die antie. Ek antwoord ongeërg dat dit ’n bietjie ver is, maar ons kan dit loop, tensy sy geld het vir ’n taxi. Sy mompel iets van taxi’s is duur. Ek stap vinnig aan. Hillbrow se hill lê aan ons voete en ek kan sien die antie sweet en hoor hoe hyg sy met elke treetjie. “Ma dis baie ver as ons die steilte nog moet yt! Djy wiet ek en jou dadda is nie meer so djonk nie, ons moes liewer die taxi gevat het,” neul die antie en staan ’n oomblik stil om asem te skep. “As antie ’n taxi wou gehad het, moes antie so gesê het by die stasie. Hierso is nie taxi’s nie,” sê Kay.
Sy en Kay redekawel ’n minuut of wat oor die taxi en toe is ons weer voort. My geld word by die dag minder. Die matras het baie gekos, wat nog van die ekstra eetgoed, daar is nie nog geld oor vir ’n taxi nie. Ek loop en dink wat my trourok ook nog gaan kos. “Nog net een blok,” sê ek opgeruimd. Antie Mona lyk asof sy enige oomblik inmekaar gaan stort. My pa se asem jaag nie, al dra hy die swaarste tas. Dis tog ’n riem onder die hart dat antie Mona, ten spyte van haar moegheid, kort-kort vir Dadda vra of hy olraait is, of die tas nie te swaar is nie. Die ou mense staan dan ’n oomblik of wat stil, Dadda help om die sweet van haar gesig te vee en sy vryf liefies oor sy hand wat die tas dra. Nog steeds verlief. Ons kom te staan voor my blok flats. “Is dit djou flats? Bly djy hier?” vra die antie en ek kan die ongeloof in haar stem hoor. Ek bid dat niemand ons sien arriveer nie, of dat hulle ten minste nie te veel notisie neem nie. “Ek weet dis wit mense se flats, maar die mense dink ek is ook wit,” sê ek onverskillig. Die antie se mond hang oop, sy vee die sweet van haar gesig af, dié keer sonder Dadda se hulp. “Ons klim liewer die trappies, netnou is daar mense in die lift.” Ek en Kay loop verby die lift na die trappies toe. “Ma, Pettie, djy moes gaskryf het djy bly in ’n white area, dan sou ons nie gakom het nie,” sanik die antie agter my. “Ek het nie voor gister geweet dat julle kom nie. Die ding is net, die flat is baie klein en ek weet nie of ek besoekers mag hê wat oorslaap nie. Ons kan miskien later ’n ander plan maak. Dorie bly in ’n losieshuis waar daar dalk ’n plekkie sal wees.” Ek gee niemand kans om te antwoord nie, maar begin vinnig die trappe klim. Agter my brom antie Mona voort: sy is oud, sy is moeg. En jy is vet, dink ek.
Eers in die flat en met haar boude op ’n stoel kom die antie tot verhaal. “Klein,” sê sy, “ma comfortable. Wa gaan ek en djou dadda slaap, Pettie? Hier’s nie nog ’n kamer nie. Lyk my djy het net een bed.” “Aag, Mamma . . .” wil Dadda troos. “Dis ’n bachelor flat, ek het dit al vir julle geskryf. Ons slaap almal saam. Iemand kan op die bank slaap en ek het ’n sponsmatras gekoop vir nog een. Daar sal genoeg lêplek vir almal wees.” “Nou ja, dis al wat ’n mens wil hê,” sê Dadda, “net lêplek.” Antie Mona kyk hom vies aan. Sy’s gewoond aan haar eie kamer, en lepellê met die oukêrel. “Ek het geskryf dis ’n bachelor flat,” maak ek weer verskoning. Dadda bekyk die sketse en waterverfskilderye teen my muur. “Onthou dat ek een steel voor ons teruggaan,” sê hy en knipoog vir Kay. “Pettie se flat is mooi en groot in vergelyking met my kamer. By my sal ons almal bo-op mekaar moet slaap, dis so klein,” lag Kay. “Nou bly djy somma so met die wittes saam?” wil antie Mona weet. Ek antwoord nie. Los dit, dink ek. My hande bewe ’n bietjie toe ek die melktert sny en koppies regsit. Ek en Kay hoor die antie se klastemmetjie waar ons in die kombuis staan. Kay pomp my in die ribbes en knipoog vir my. Ons glimlag. “Moenie worrie nie,” fluister sy, “ons pa moan nie.” Ons is almal dankbaar vir die nattigheid oor die lippe. Kay sluk haar tee haastig, want sy moet terug werk toe; mevrou Cohen het haar net ’n kort tydjie afgegee. Sy soen almal en met ’n koebaaiwuif is sy weg. “Sê my, Pettie,” begin antie Mona weer, “was da nog geen complaints nie?” My nekhare rys.
“Complaints waaroor?” vra ek onskuldig. “Wel, ek mien, dat djy hierso bly.” “My pa het ook tussen die wit mense gebly,” kap ek terug terwyl ek kamma lag. “Ag so!” sê sy net. Dadda kan my nie in die gesig kyk nie, skuif net ongemaklik op sy stoel rond. Nou weet ek sy weet van die wit streep, want sy vra niks verder uit nie. Haar mond is gesnoer en ek is dankbaar. Dadda kom sit langs my op die bank. Hy vat my hand en klap-klap met sy groot hand saggies daarop. “Ag, Pettie, jou dadda is so happy dat jy lekker hier bly, dat jy ’n goeie job het en alles. Nou weet ek ten minste waar jy bly, hoe jy lewe en dat dit goed gaan met jou. Nou voel my gemoed rustig. Moenie worrie oor die sleeping arrangements nie, ons sal regkom. Jou oukêrel slaap sommer op die vloer, jy ken my mos, ek is nie vol strooi nie.” Die antie stik amper in haar derde stuk melktert. “Nei, ma Pettie het mos gesê sy het ’n matras, watse vloerslapery is dit nou?” protesteer sy. “Aag, Mamma, jy weet ek is nie fussy nie. Dis lekker om my baby girl weer te sien. Kay lyk net so goed. En ek kan nie wag om vir Faantjie te sien nie, hy het seker al so groot geworre . . .” Hy vra uit oor Faantjie en ek besef my dadda verlang regtig na sy kleinkind en ook na sy dogters. Skielik voel ek tog ’n bietjie bly dat hulle gekom het. Ek het gisteraand vir Laki gewaarsku oor antie Mona. Net voor ons by die deur naggesê het, het ek nogmaals gesê: “, my father’s wife is dark and a little . . . platvloers.” Dit het skoon verspot geklink en ek wou lag. Dis nou ’n woord om vir ’n Griek te sê! Maar ek kon nie aan ’n beter woord dink nie. “What is platvloers?” het hy onskuldig gevra, en toe wou ek eers lag, sy uitspraak was skreeusnaaks.
“Wel, sy dink nie altyd wat sy sê nie. She can be a bit embarrassing . . .” Dis moeilik om antie Mona te beskryf. Vanoggend vroeg het Laki my gebel en gesê ek moet liewer vir hulle plek soek by mevrou Soes, netnou tel ek moeilikheid op. Ek het beloof ek sal probeer. Hy en Kosta gaan iemand besoek, besigheid, natuurlik. Miskien is dit beter dat hy nie kom kuier terwyl my pa-hulle hier is nie. Hulle moet eers aan die idee gewoond raak dat ek in ’n wit gebied bly, wat nog van ’n wit kêrel! Dorie en Kay kom die aand saam eet; ons sit sommer met die borde op die skoot. Dis ’n lekker samesyn van familie. Ek het van ’n bietjie maalvleis kerrie met ’n lang sous gemaak en ’n groot pot rys daarby. Die mense lek hul vingers af. “Ek wens Stewie kon ook hier wees,” dink my pa hardop. “Hy kan gerus kom kuier,” sê Kay. “Pretoria is nie die ander kant van die wêreld nie.” Liewer nie, dink ek, liewer nie. Ons gesels oor en weer en ek voel tog gelukkig. Gelukkig ook in die wete dat Laki nie vanaand hier gaan opdaag nie. Maar wat van môre? Ek moet probeer uitvind hoe lank my pa-hulle gaan bly, miskien kan ek hulle en Laki tog uitmekaar hou. Ek sê sag vir Dorie dat die plek te klein vir ons almal is en vra haar of daar nie ’n kamer by mevrou Soes vir Dadda-hulle is nie. Antie Mona hoor my en gee my ’n vinnige kyk. Sy geniet dit om so tussen die wit mense te bly, waarheen dan nou? “Ek sal mevrou Soes vanaand nog vra, sy gaan altyd laat slaap. Daar het gister iemand uitgetrek, so daar is plek vir een,” sê Dorie. “En djou dadda dan?” vra die antie verontwaardig. “Ons sal ’n plan maak,” verseker ek haar, maar ek weet nie wat nie.
“Hoekom kan ons nie hierso bly nie?” kerm die antie. “Die plekkie is klein, but we all fit in, en die shops is somma naby. Dis lekka om op die balcony te staan en die mense so te kyk.” “Dis Whites Only hierso,” sê Kay terwyl sy ’n stukkie brood in die kerriesous doop en in Faantjie se mond druk. “Ma Pettie is mos nie wit nie!” “Maar, my antie, sy lýk wit!” Nou is antie Mona eers vies. Sy weet nou dis oor haar dat ons almal wil hê hulle moet liewers anderplek gaan bly. Sy prop haar kerrie in en sê niks verder nie. Dankie tog. Dadda praat mooi met haar en sê miskien sal dit beter wees by mevrou Soes. My plekkie is te klein vir drie mense. Besides, die mense kan complain oor die visitors en netnou is ek my flat kwyt. Sy antwoord hom nie, eet net voort. Die nag maak ek omtrent nie ’n oog toe nie. Die antie snork kliphard. Die volgende oggend verseker sy ons dat sy heerlik geslaap het. “Seker maar die change of air,” meen sy. My kop voel dik en ek sukkel om op te staan. Boytjie bel my werk toe. Kan hy en Lettie oorkom vir ete? Hy bring die kos. Sal ek vir Laki vra of dit reg is? “Kom gerus,” sê ek en vertel hom van my pa-hulle. “Ek kom definitief,” beloof hy. Laki bel my ook. Hy wil weet of ek vir my pa gesê het ons gaan trou. Nee, sê ek. “Hoekom nie?” vra hy beskuldigend. “Ek sal nog, gee net kans,” gooi ek wal. Ek kerm oor wie die genooides by my troue gaan wees. “Wat sal antie Mona sê as sy uitvind sy word nie na die troue toe genooi nie?” Pattie, antie Mona is niks van jou nie, raak ontslae van haar, sê hy. “She no family.”
“Jy is mal, sy is my pa se vrou,” sê ek geskok. “You get trouble by flat people,” waarsku hy. “Ek weet, ek weet,” sê ek. “Wat gaan ons maak as my pa-hulle nog hier is as ons trou?” neul ek verder in Laki se ore. Hy het die storie al gehoor; hy sug hard. “We marry alone, stop worry. Ek sien jou later.” “Nee,” protesteer ek, “liewer nie, asseblief nie. Wag eers.” “Ek kom, ek wil jou pa praat. Goodbye.” My susters kom al vroegaand, toe Boytjie. Hy maak verskoning dat Lettie nie by is nie. Sy het die aand aan Gert beloof en hy het reeds kaartjies gekoop vir ’n konsert by die plaaslike skool. Hy dra ’n groot bak lasagne. “My ma se special,” sê hy. Onder sy arm is ’n pak broodrolletjies, “sy ma se ander special”. In sy baadjiesak dra hy ’n bottel wyn. Ons lag vir hom met die klomp goed. Kay sê ek moet vir hom ’n groot rooi mond verf, dan sal die prentjie van ’n clown kompleet wees. Boytjie lag maar saam, pak alles uit op die tafel. Boytjie en Dadda gesels lekker, ook antie Mona is baie ingenome met hom. Hulle dink seker hy is my kêrel, dink ek ’n bietjie vies. Ek weet nie mooi wat om te sê van hom nie. Is ons nou vriende? Ek is verloof, kan ons vriende wees? Dadda wil weet of Boytjie ook in Hillbrow bly. Boytjie lag lekker. “Ag nee, oom Willie! Ek is nie so gelukkig nie. Ek wil onderwys gee en leer nog vir my onderwysdiploma. Maar intussen werk ek saans hier om ’n ekstra geldjie te verdien. My ma se huis is in Bosmont.” Hy glimlag breed, las by: “Oom sien, eintlik is ek overqualified om klas te gee in die bruin skole, want die government gaan my nie meer betaal omdat ek ’n graad het nie, maar ek is overcoloured vir die wit skole en underexperienced vir die university!” My pa lag lekker saam.
“Ek ken die storie, ou seun,” sê Dadda. “Ek is te bruin om as hoofstoorman aangestel te word, nou leer ek ’n mannetjie half my age. Maar hy is te onnosel om orders te maak. Hy is gelukkiger in die stoorkamers en ek sit by die desk en doen al die papierwerk, maar ek bly die assistent en hy bly die baas.” Dadda en Boytjie lag nie meer nie. Partykeer maak die waarheid net te seer. Faantjie sit op die vloer langs Dadda se stoel. Hy suig aan ’n stukkie brood en strooi krummels oral rond. Kort-kort vryf Dadda oor sy swart krulletjies en gesels so ’n bietjie met hom. Faantjie geniet die aandag en sy toontjies krul en die vet handjies klap op die vloer. Hy trek hom teen enigiets op. Die beentjies staan amper bak om die lyfie regop te hou, maar as hy eers houvas het, verloor hy nie sy balans nie. Met die geselsery oor en weer klink dit soos ’n koeliebasaar. Party borde word ’n tweede keer vol geskep en leeg geëet. Ek skink die koffie en dra dit aan. Daar is ’n vinnige klop aan die deur en iemand maak oop. Laki. Hy glimlag breed en vat die koppie koffie uit my hand. “Dankie,” lag hy. Kay groet Laki vriendelik, maar gee my tog ’n vinnige kyk. Laki glimlag met my pa, staan nader om te groet, buk eers om vir Faantjie hallo te sê en te kielie. “Dadda, dit is Laki Pappasani. Laki, dis my pa en antie Mona.” Verder kan ek nie uitbrei nie en ek sien hoe Laki sy kop effens skuins draai en my vas in die oë kyk. Hy wil hê ek moet meer sê, maar die woorde sit in my keel vas. Ek kyk vinnig weg, sê niks verder nie, asof sy teenwoordigheid nie van belang is nie. Die mans skud hand. “You have nice name. Are you lucky with money or are you lucky with cards?” My pa lag lekker vir sy eie grappie. “Is that your real name?” “Not English Lucky, Greek Laki. L-a-k-i,” spel hy. Hy vra of my pa en antie Mona ’n nice journey gehad het, hoe dinge in die Kaap
lyk, hoe hulle van die Transvaal hou en of sy dogters nog mooi lyk. Dadda gesels gretig terug, hoewel dit duidelik is dat hy nie mooi weet waar die wit man inpas nie. “You come alone?” vra Laki ’n bietjie later vir Boytjie, wat haastig verduidelik dat Lettie sou saamgekom het, maar . . . Dadda vra weer Laki se van, vra dan of dit Grieks of Italiaans is. “Ek is Griek, van Sparta. My village is Parori. Jy weet van Sparta?” Dadda knik heftig kop. Ja, hy weet van Sparta. Hy is lief vir lees en het al oor die ou Spartane en hul leefwyse gelees. Hy weet presies waar Sparta in Griekeland geleë is. Laki is beïndruk en hulle gesels kopstukke oor die Griekse geskiedenis. Ek voel verlig dat dinge so glad verloop. Later tel my pa vir Faantjie op sy skoot en begin speel met hom. Laki komplimenteer Dorie op haar stewels. Sy voel gevlei. Ja, sê sy, hulle is nuut. Dan kyk hy skielik vir my, leun so ’n bietjie my kant toe. “You tell your father?” Ek antwoord nie, spring net op en gryp ’n paar leë koppies wat ek haastig kombuis toe vat. My hart klop in my keel. In die kombuis maak ek ’n groot geraas met die koppies se was. Laki is agter my. “You say nothing? Your father is very nice, I will tell him.” Ek skud my kop. Nie nou nie. “I tell him,” hou hy vol. “Laki, asseblief, nie nou nie. Kan ons nie maar net stil in die hof trou nie? Dan hoef ek nie verskonings uit te dink hoekom my mense nie genooi word nie en hoekom . . .” Ek sien die moedelose kyk in sy oë, die saamgeperste lippe.
“Ons trou in kerk, alleen. Ek, jy en Kosta. Hy is die koembáros.” “En my susters?” vra ek geskok. “En jou pa, anties, vriende, almal? Nee, dis finish!” Die warm water brand my hande en die trane brand my oë. “Jy worry die family. Worry for us.” Dorie kom die kombuis binne. “Los die koppies, jong, ek sal help. Waar is die afdroogdoek? Laki, gaan gesels jy ’n bietjie binne met die mense.” Sy begin afdroog en Laki gaan binnetoe. “Wat’s verkeerd?” vra sy. “Hy gaan vir Dadda sê ek is wit, en van die troue . . .” “Dis reg, hy moet weet. En wat daarvan?” “Wat gaan Dadda sê as ek hulle nie troue toe nooi nie?” wil ek vir die soveelste maal weet. “Jy weet Dadda het destyds gesê hoe trots hy was om met Kay aan sy arm die kerk in te stap, hoe bewoë hy gevoel het om haar aan Paulkie af te gee. En hy het bygevoeg hy sien daarna uit om sy ander twee dogters op dieselfde wyse –” “Nevermind wat Dadda gesê het en nevermind antie Mona en nevermind al die ander mense. Dis jou troue, nooi wie jy wil. Jy sê net dis ’n Griekse troue, antie Mona en die res sal die hint vat.” Ek skud my kop. “Dit sal ’n klap in my pa se gesig wees. Ek kan hom nie so beledig nie.” Laki gesels met die mense, maar hy sê niks vir Dadda van die troue of die witpapiere nie. Ek was verniet bang. Ek besef hy wil hê dit moet van my af kom. Hy bied aan om vir Kay en Dorie huis toe te neem. Hy groet almal en sê hy kom nie terug nie, hy sien my môre. Dankie tog.
Daar sit ons toe. Dadda, antie Mona, Boytjie . . . en ek wat nie ’n woord kan uitkry nie. Ek wil Dadda alles vertel, maar die woorde wil nie uit nie. Hoekom voel ek steeds soos ’n verraaier? My pa sal mos verstaan, hy is ’n maklike mens. Is ek bang vir antie Mona se reaksie? “Bly Laki ook hier in die flats?” skimp die antie. “Nice boy, wat doen hy vir ’n living?” vra Dadda. “Hy is in die boubedryf.” “Ken julle mekaar goed?” skimp die antie weer. “Ja, nogal.” Stilte. En so gaan dit. Ja. Nee. Ja. Nee. Niks meer nie. Net toe dit lyk of ek oor my ja en nee wil struikel en hulle snuf in die neus gaan kry, kom Boytjie tot my redding. “Ek moet loop, Pettie. Baie dankie vir ’n heerlike aandjie.” Hy groet Dadda en antie Mona. “Loop saam,” nooi hy my. Buite waai die aandluggie deur my hare en gee my ’n bietjie hoendervleis. Boytjie steek die sleutel in die kar se deur, draai dan na my toe en vra of ek al enige besluite geneem het oor die troue. “Ek trou letterlik oor ’n paar dae.” En voor ek kan keer, loop die trane. “Klim in,” sê hy en maak die deur vinnig oop. Die tissue wat ek in my mou gebêre het, is sommer gou-gou nat. “Moenie huil nie, alles sal regkom,” troos hy. Ek voel sy hand op my skouer. Met sy ander hand vee hy ’n krul van my voorkop af weg. Ek voel hoe sy vingerpunte saggies oor my skouer vryf, maar ek ruk my vinnig reg, skud sy hand ongeërg af deur vorentoe te sit. “Ek’s olraait. Jammer, jong, lyk my ek tjank elke keer as jy kom kuier,” sê ek verleë. Hy lag en sit albei hande op die stuurwiel. “Kom ons gaan gesels met iemand
anders, miskien kry ons ’n koppie iets te drinke. Ek weet vir ’n feit sy bak vanaand brood. Hoe lyk dit?” nooi hy. Ek trek my skouers op. Enigiets behalwe my pa en antie Mona se vrae. Dit voel of ons ver ry. Uiteindelik hou ons voor ’n huis in ’n Kleurling-buurt stil. Dis net ’n paar tree na die voordeur. “Welcome to Bosmont,” sê Boytjie. Hy klop een keer saggies aan die glasdeur en sluit dan oop. Diep in die huis lyk dit of daar lig brand. Seker ’n kers, dink ek. ’n Vrou kom ons tegemoet. Dis te donker om haar gesig mooi te sien. Sy groet my vriendelik met ’n stem wat sê jy is welkom, ek is bly jy is hier. In haar hand is ’n kersblaker met ’n kers wat al laag brand. Ek kyk na die skadu’s teen die muur en ek voel ’n skielike verlange na lank gelede. My ma se huis het sulke skadu’s gehad. “Dis Pettie Peters, dis my ma. Is daar ietsie te drinke, Ma?” Boytjie soengroet sy ma op die wang. “Hallo, Pettie,” sê sy en vryf liggies oor my arm. Haar aanraking is sag en warm. “Kom innie kombys, die kinners slaap. Die stoof is nog lekka warm en die water sallie lank vat om te koek nie. As ek gawiet het julle kom, sou ek ’n kers innie kombys gelos het. Boytjie gee mens ook nie prior notice dat hy ’n girl hys toe bring nie . . .” So loop sy gesels-gesels kombuis toe, ons op haar hakke. Ons gaan sit by die kombuistafel. Alles ruik na seep; die tafel is seker vanaand nog geskrop, dink ek. Die enamel-geverfde mure blink. Die sideboard is netjies gepak. Eenkant op die tafel lê skoolboeke. Boytjie stoot hulle effens eenkant toe. “Ek het twee susters op hoërskool en ’n boetie in die laerskool,” sê hy. “As jy eendag trou, Pettie, moet tog nooit kinners kry nie. Hulle maak jou mal en arm en jy erf al jou grys hare van hulle,” lag sy ma. Ons lag lekker saam. Die koppies word neergesit, dan die groot teepot, melkbekertjie en suikerpotjie. Alles is wit porselein en ek wonder of sy nou haar beste vir my voorsit. Miskien
dink sy nes my pa-hulle dat Boytjie my kêrel is. Ek voel ’n bietjie skuldig. “Ek gaan gou vir ons nog ’n kers haal, dié is ampa finish,” sê sy. Boytjie haal die ketel kookwater van die koolstoof af, gooi die teepot vol. Hy roer die blare ’n rukkie om en om. Hy beduie ek moet skink, maar ek hou terug, dis mos nie my huis nie. Sy ma kom terug met nog ’n kersblaker en kers. Sy druk die kers stewig in die blaker en steek dit aan. “So ja, nou kan ons meka bieterder sien.” Ek kyk na die vrou. Mollig en moederlik, met ’n breë glimlag. “Ek het al vergeet hoe lekker gesellig kerslig kan wees,” sê ek. “Jy is reg, Pettie, kerslig is gesellig. Lat die wittes ma hulle bright lights hou, ek laaik ok die kerslig. Net die kinners moan as hulle die hyswerk moet doen.” Sy gooi melk in die koppies, dan twee lepels suiker en dan die tee. “Hoor hier,” fluister Boytjie kamma geheimsinnig oor die tafel terwyl hy na my kant toe leun. “Ma het ook al gekla oor die kerse. En wat van die wasmasjien en al die ander elektriese goed wat Ma tog so begeer?” Hy glimlag breed met die tergery. Sy lag binnensmonds, roer die tee om en om. “Dis waar, elektriese goed maak die liewe makliker. En kerse mors en ’n mens is altyd bang virrie brand, ma even so, ek laaik dit. Soos Pettie sê, dis gesellig.” Ons drink tee, rooibostee. Die bekende soet aroma vul my neusgate en ’n lekkerte kom lê in my hart. ’n Mens wil dit weer en weer ruik. Dis jare sedert ek dit laas gedrink het. Die groot muurhorlosie tik-tak, tik-tak in die stilte. Buite is dit doodstil, geen verkeer, geen rumoer. Ek hoor hoe Boytjie diep sluk, sug en dan agteroor in sy stoel sit. My vingers streel die growwe oppervlak van die tafelblad en dis asof iemand sag aan my hartsnare vat. Die blouseepreuk meng met die rooibosgeur en ek is terug in my mamma se huis, aan haar houttafel. Sy loer oor my skouer terwyl ek my somme maak, sit die bekertjie rooibos langs my neer. “Moenie vergeet om te
piepie voor jy gaan slaap nie,” sê sy en streel oor my hare, soen my voorkop. Maar hierdie is Boytjie se ma se kombuis. Waar die kerslig die linoleum plekplek vang, blink dit; net hier en daar is ’n dowwe kol waar dit al deurgeloop is. ’n Warmte omvou my soos Katrien se groot kombers die bybie omvou het en dis ’n lekkerte wat ek al amper vergeet het. Ons ver-lustig ons in die hitte van die koolstoof. Die deurtjie staan op ’n skrefie oop en binne gloei dit en gooi ’n rooi weerkaatsing oor Boytjie se ma se wange. “Boytjie het my vertel van jou; hy sê jou dadda-hulle kuier by jou,” sê sy. “Ja, mevrou, en baie dankie vir die lasagne wat mevrou gestuur het. My plekkie is net klein, hopelik kan hulle by my suster Dorie in mevrou Soes se losieshuis gaan bly. Ek weet nie vir hoe lank hulle nog wil kuier nie.” “Nee, dis goed dat jou dadda kom kyk wa sy dogters bly. ’n Ouer worrie altyd so oor ’n kind as hy weg vannie hys is. Dankie dat jy nou die aand vir Katrien gaan help het, sy kan nie uitgepraat raak oor jou nie. Ek sê ook dankie, Pettie. Koos is ’n hardebaardman, ma ek worrie nog oor hom ok.” Boytjie lag hardop. “Jy lag verniet,” sê sy ma en klap kamma na hom. “Pettie, noem my maar antie Smiley. My doopnaam is Elizabeth Patricia, ma Smiley is wat almal my noem, al van kleintyd af.” Die naam pas haar. Haar glimlag is so warm soos haar koolstoof op hierdie koue wintersaand. “Dankie, antie Smiley. My naam is ook Patricia.” “Nou ja, dan het ons mos iets in common,” sê sy met haar breë glimlag en vryf oor my hand. Ek kry die verspotte lus om haar teen my vas te druk. Sy het ’n warm rok aan met ’n oopknooptrui en sy het nog nie haar voorskoot afgehaal nie. Haar wange is rond en die donker bos hare skud vrolik heen weer met elke laggie, en telkemale word ’n lastige krul in sy plek gedruk. Sy gesels voort met haar sagte stem, aanmekaar, soos iemand wat arm aan geselskap is. Ek en Boytjie luister.
“Ek bly al twintig jaar hier, tien jaar sonder man. Boytjie se pa is dood in ’n treinongeluk, sommer nog jonk,” vertel sy. “Die Railways het compensation betaal, dit was hulle skuld.” Die geld het sy gebruik vir Boytjie se education. Die pension wat sy kry, is klein. Boytjie help soms met die geldjie wat hy vir sy aandwerk verdien, en Koos partymaal ook, maar hy het sy eie familie om voor te sorre. Die lewe is swaar, soos ek ook seker weet. “Ek kla nou nie,” sê sy haastig, “ek gesels net, verstaan.” Ek verstaan. Alte goed. Die lewe is swaar. “Mammie,” praat Boytjie skielik, maar hy sê dit sag, “as Mammie môre wit kon wees, sou Mammie wit wil wees?” Antie Smiley lag saggies. Sy stoot haar leë koppie oor die tafel. “Watse vraag is dit nou, so laat in die aand? Is dit ’n trick question?” “Nee, ek bedoel as Mammie en die kinders nou witpapiere kan kry, sal Mammie dit vat?” Sy oorweeg die vraag ’n oomblik of twee. Sy vat aan haar hare, druk hulle bietjie diékant toe, bietjie daaikant toe. “Ek sal hier moet wegtrek, na ’n white area. Dis duurder da, ek kan dit nie afford nie. Anyway, my vrinne is hier. Elke keer as jou susters innie nag siek worre, kan ek langsaan gaan klop. Vir medisyne, vir raad. Onthou jy hoe die mense hier gestaat het met jou dad se funeral? Die mense is nog by my. Met wie gaat ek praat innie white area? As ek nou kamma wit worre, sal ek moet koebaai sê virrie mense hierso. Ek kan nie, ons is dan deel van mekaar.” Ek luister aandagtig; ek weet hoekom Boytjie die vraag gevra het. “Kan ’n mens dan nie die toutjies knip nie? Ek bedoel, kan ’n mens dan nooit ’n nuwe lewe begin nie?” vra ek huiwerig. “Ja, jy kan hom knip, ma sooner or later groei hy weer aan. Van jou past kan niemand weghol nie. Jy is jou past en jou past is jy. Net so min as wat ’n mens
van God kan weghardloop, net so min kan ’n mens van sy gewete weghardloop. Jou experiences is mos dié vannie bruin man, jou memories ok dié vannie bruin man, en hoe anners dan? As God jou ’n anner kleur wou gehad het, sou hy jou so gemaak het.” Sy vryf oor die houtblad, vee ’n paar denkbeeldige krummeltjies af. “Nee, so het ek oud geworre en so sal ekke bly. So wíl ek bly.” Boytjie knik. Hy het die antwoord verwag. Hy het nog ’n vraag. “Sê nou ’n bruin meisie en ’n wit man raak verlief en die wit man wil met haar trou?” Ek hou my asem op. Sy skud haar kop en die krulle skud saam; dié keer hoef sy nie lank te dink nie. “Die wit man sal nie bruin worre nie, hy sal wil hê die bruin meisie moet wit word. En as die papiere sê sy is wit, sal hy vir haar sê: ‘Jy is nou wit, los die bruin goete, los jou mammie en jou daddie, los jou vrinne, volg my.’ Ma die Bybel sê dis die man wat sy ouers sal los en die vrou sal volg. Nie annersom nie, so wil God dit hê en so moet dit wees. Finish en kla!” Boytjie stem saam. So moet dit wees, uit en gedaan. Uit en gedaan, dit klink so eenvoudig. Antie Smiley staan op en gaan na die koolstoof. Sy maak die deur wyd oop en loer in. “Die brood is reg,” sê sy. Met dik vatlappe word die panne versigtig uitgetrek en op ’n draadrak reg onder my neus een vir een omgekeer. My maag slaan bolmakiesie. Die warm broodreuk is hemels. “Lat die wit man ma sy witbrood koep. Hierso sien jy ons bruinbrood. Die Smiley Special: vol sesamesaad, sunflower-saad, growwe meel, syrup en al die ander lekka goete. Hiervan kan ’n mens liewe.” Ons wag geduldig vir die brood om bietjie af te koel. Antie Smiley voel kort-
kort met ’n geoefende hand aan die brood. “Laat val tog die korsie my kant toe,” smeek Boytjie. Antie Smiley lag terwyl sy ’n brood reg draai om te sny. “Onthou, Laaitie en Hentie soek ook die korsie.” “Ag, Mammie, hulle slaap nou, gee maar vir my, ek is mos die favourite,” smeek hy verder, klap dan skielik sy vingers. “Ek sê Ma wat, ek sal Ma 50c betaal vir daai korsie. Dis mos fair.” Antie Smiley haal ’n groot mes uit en swaai dit so ’n bietjie voor Boytjie se neus. Sy tik op die tafel met die mes se punt. “Sit neer daai fifty cents, grootbek.” Ons lag lekker. Boytjie steek sy hand diep in sy broeksak, maar al wat hy kry, is twee twintigsentstukke. Hy sit dit op die tafel neer. Antie Smiley wys vir hom vinger. “Onthou, jy skuld my nog ten cents en Pettie is my witness.” Die botter en konfyt word uitgehaal. Boytjie smeer ’n bietjie botter en ek sien hoe dit wegsmelt in die warm brood. “Bêre maar die jam vir die kinders,” sê hy en gee die gesmeerde stuk brood vir my. “Nei, ma Pettie wil ’n bietjie jam hê,” maak sy beswaar. “Nee,” sê ek, “bêre dit, die botter is oorgenoeg.” Sy smeer ook nie daarvan nie en dit word weer in die kassie gebêre. “ ’n Mens drink nie kaal tee nie en jy eet ook nie kaal brood nie,” sê antie Smiley, “ek maak vir ons nog tee. Die water kook al amper.” ’n Happie brood, ’n slukkie tee. “Ai, antie Smiley,” sê ek, “dis die lekkerste wat ek in ’n lang tyd gekuier het, en
die lekkerste broodjie sedert ek my ma s’n geproe het.” “Jy moet weer kom,” nooi sy. “Kom proe my patats.” “Ek sal kom,” belowe ek, maar ek kan haar nie in die oë kyk nie. Sy vat my hand. “I mean it, Pettie, jy moet rêrig weer kom. Boytjie leer en werk van die oggend tot die aand, hy het sometimes ’n meisie se geselskap nodig, en ek geniet ook jou geselskap.” My binneste voel skielik bewerig: sy weet nie ek is verloof nie. Boytjie het haar tog nie alles oor my vertel nie. Haar vinger word onder Boytjie se neus gedruk. “Jy bring haar weer, gehoor!” “Graag,” beloof hy, “as sy wil kom.” Antie Smiley is klaar met haar tee en brood en sy sê good night. Ons belowe om die kers dood te blaas voor ons loop. Ek en Boytjie eet nog ’n snytjie. “Jou ma is absoluut dierbaar. Ek hou baie van haar.” “En sy hou van jou, dis duidelik!” Ek was ons koppies en vee met ’n lap oor die tafel om al die krummels op te vang. Boytjie droog af en pak weg. Dis tyd om te gaan. By my voordeur trap ons ’n bietjie grond. “Gee jy om as ek jou bel, net om te gesels? ’n Mens is soms lus om ’n bietjie met iemand van jou eie ouderdom te gesels, iemand anders as jou ma.” “Daar’s tog niks verkeerd met gesels nie,” sê ek.
Aan die snorkgeluide kan ek hoor my pa-hulle slaap al. Ek trek in die badkamer uit en kruip stilletjies in my bed. Dit was ’n lekker aand. Die geur van antie Smiley se brood sit nog in my neus, die smaak van die rooibos lê nog op my tong. My vingerpunte voel weer die houttafel, ek sien weer antie Smiley se
glimlag, die skadu’s teen die muur. ’n Lekker gevoel spoel skielik oor my: antie Smiley, jy is my mense. Mý mense!
Hoofstuk 21
Dorie sorg dat Dadda en antie Mona by mevrou Soes kom. Douvoordag kom sy by my flat ingewaai en kondig aan mevrou Soes het ’n kamer vir hulle en die taxi wag. Binne ’n paar minute is die tasse gepak, komberse opgerol, mense aangetrek en is hulle uit en weg. Dis nog baie vroeg en Laki kom by my flat aan net toe die hysbak se deur agter Dadda-hulle toegaan. Hy is net so verlig soos ek dat hulle uit is. Hy staan rond terwyl ek gereed maak vir werk. “You must buy dress,” sê hy en trek my nader. Hy hou my styf vas en ek kan sy hart teen my bors voel klop, my ronde magie druk teen syne. Ek trek vinnig weg, bang die bybie skop en hy voel dit. “Haai, wag nou,” protesteer ek, “ek moet werk toe gaan.” “Vandag ek gaan na die court, ek maak dag vir trou.” Ek wurm my los uit sy omhelsing en tel my handsak op. “Dis al laat,” sê ek. “Ek gee jou lift na job. Jy gaan vanaand na Maggie?” Ja, sê ek, ek het ’n paar aande laas gegaan. Laki laai my dikwels na werk op en laai my vir ’n rukkie by Maggie af terwyl hy in die bakkie sit en wag. Ek vat altyd iets te ete saam. Vir my moeite kry ek dan ’n stywe lip en niks meer nie. Sy noem Laki altyd “die wit man”, nooit op sy naam nie. “Het die wit man djou weer gabring?” sal sy vra. Ek word gedurig gepols oor die trouery. Waar, wanneer, wie gaan jy nooi, waar gaan jy bly? Ek antwoord ontwykend en die dikbek bly dik. Hoe moet ek vir haar sê dat ek self nie al die antwoorde op haar vrae het nie?
Maggie was al die jare goed vir my, lief vir my. Wat het gebeur dat sy so verander het? My witpapiere, en Laki natuurlik. Met ’n snorkgeluid is albei verwerp. Sal ek haar by mevrou Soes moet gaan bêre en dan vir ewig van haar vergeet? Dis ’n blerrie gaworrie, sou oompie Spykers gesê het. “Die man moet die vrou volg,” het antie Smiley gesê, “dis hoe God dit wil hê.” Wat wil jý hê, Pettie Peters? Ek wil vir Laki hê. En ek wil my bruin mense hê. Jy kan nie albei kry nie. Ek wil albei hê, hou ek vol. Nee, jy moet kies. Nee! Nee! “You must buy dress,” het Laki vanoggend gesê, “next Sunday we marry.” Hoekom is ek so traag? vra ek myself. Die hele dag voel ek siek. Pyne woed op my maag en ek drink die een pynstiller na die ander, maar dit help nie. Voor die dag om is, gaan ek huis toe, ek voel eenvoudig te sleg om te werk. Dis senuwees oor die troue, sê die mense by die werk. Jy moenie so worrie nie, netnou kry jy ’n breakdown. “Ek sal beter voel as ek so ’n bietjie kan lê,” sê ek. “It’s just nerves,” sê hulle. “Ja, dis net my senuwees, dis al.” “Pattie is al drie uur gelede huis toe,” sê hulle vir Laki toe hy later daar opdaag. “She is a bundle of nerves, go talk to her.” Hulle praat met hom: Kalmeer haar, vat haar dokter toe, hy sal iets gee vir die senuwees. Hy kry my op my bed, bleek en natgesweet van die pyn. “What is wrong?” vra hy bekommerd en hou my hand vas. Nou moet ek hom sê. Ek kry skaam en stik in my woorde. “I am pregnant. Please take me to the hospital, something is wrong.” Sy mond gaan oop asof hy iets wil sê, maar hy uiter nie ’n geluid nie, hou net my
hand stywer vas. Op pad hospitaal toe praat ons. Hy wil weet hoe lank ek al weet dat ek met die lyf is. Ek vertel hom, ook my redes waarom ek hom nie eerder gesê het nie. Hy is geskok. “I love you, you must believe me. I buy rings, make plans. Why you don’t believe me?” As ek hom eerder gesê het, kon ons eerder getrou het, verwyt hy. “Ek worrie oor my mense,” sê ek deur die pyn en trane. Hy verwyt my dat ek liewer vir my mense is as vir hom. “Jy worry en netnou is ons baby dood. Ons trou Maandag in court. Dis final.” Die dokter ondersoek my by Ongevalle. Hy vra baie vrae. Daar is nou bloeding ook. Die dokter sê die bloeding is nie baie nie, maar my pyn is te erg. Die kind wil afkom, ek sal moet bly, ek het rus en behandeling nodig. Hulle stoot my in ’n rolstoel na ’n saal en ek word in die bed gesit. Moenie opstaan nie, sê die nurse, ons bring vir jou alles. Lui net die klokkie. Om die bybie te behou moet jy rus. Ek voel lomerig van die inspuiting. “Is pain gone?” vra Laki besorg. “It is going,” antwoord ek. Ek voel warm en my sweterige hand gly in syne. Die nurse trek die gordyne om ons. Laki sit sy hand op my maag. “Miskien is dit beter as ek die kind verloor,” sê ek slaperig. “You talk like fool,” fluister Laki. “This is our child. Piece of you, piece of me.” Hy sê weer ons trou Maandag in die hof. Die maatskappy waarvoor hy werk, gaan anderkant Potchefstroom huise bou. Daar sal werk wees vir ’n baie lang tyd. Ons gaan soontoe, dadelik ná die kerktroue. Alles sal regkom. “Don’t worry.” Sy stem dreun voort, maar ek kan nie meer uitmaak wat hy sê nie.
Laki neem my pa en antie Mona, Dorie en Kay na Maggie vir ’n kuiertjie. Hy sê vir almal ek is in die hospitaal, ek het ’n maagsweer wat wil bars. Maggie sê sy
het natuurlik geweet ek sal ’n ulcer kry, ek lol mos met die wit mense. Daar kom alles op die lappe. My pa hoor van die witpapiere, dat ek verloof is aan Laki. Hy mors met haar, het Maggie vir almal vertel, hy gaan haar los. Dorie het my later vertel wat alles die aand gesê is. Die meeste wil ek liewer vergeet. Laki kom laataand weer kuier en sit lank by my. Die saalsuster kom sê hy moet liewer gaan, hulle sal hom laat weet as iets gebeur. Donkermôre kom die krampe terug om my te teister. In my een arm is ’n drup. Laki kom vroegoggend, ’n bos blomme in die hand. Ek wil nie hê hy moet hom oor my bekommer nie en ek kry dit reg om flou te glimlag en te sê ek voel ’n bietjie beter. Maar ek voel nie beter nie en boonop is ek nou uiters bedruk, ek wil net huil. Eers het ek baie gebid, maar nou kan ek nie meer nie. Wat moet ek bid? Vat die kind weg, of laat hom lewe? Wie is ek om vir God voor te skryf wat om te doen? Wees my genadig, laat u wil geskied, is al waaraan ek kan dink. Laki probeer my help om ’n bietjie ontbyt te eet. Ek is nie lus daarvoor nie. Die wêreld het net te swart geword. Ek sukkel om ’n mondjie vol kos te sluk. “Jy moet eet,” vermaan hy, skep dan weer. Die kos wurg my. Ek voel naar. “Jou maag is leeg,” sê hy, “eet nog.” Die dokter kom ondersoek my, sê die bybie se hart klop sterk. Ek moet net rus, sê hy, die nurse gaan my nog ’n inspuiting gee. Sterkte, sê die dokter. Sterkte. Wat beteken dit? My liggaam voel pap, my gees wil uit, waar moet die sterkte vandaan kom? “Ek gaan die boeboenjéres nou order,” sê Laki. Die amandellekkers wat in net toegedraai word en aan die gaste gegee word by ’n Griekse troue. Ook die stéfana, die ringe vir die kop, en die confetti. Ek probeer protes maak: Wag nog ’n bietjie, los eers die kerktroue.
“No, we marry! Now!” sê hy vasbeslote. “The baby must have married mother and father.” Ek knik. Hy sê as ek dan nog te siek voel, kan ons dit uitstel, maar as ek gesond is en goed voel, is alles gereed en dan trou ons. “Ek wil weer dink,” pleit ek. “Kom ons stel alles nog ’n rukkie uit, asseblief. Ek wil weer oor alles dink. Asseblief.” “Wat jy wil dink? Wat?” vra hy amper kwaad. Hy redeneer met my: As jy bruin is, kan ons nie trou nie. Jy is nou wit, jy bly wit. You love me, you marry me. We have a child! Ek maak my oë toe. Ons trou en gaan weg, dadelik, belowe hy. Ons los alles en almal. Ons begin ’n nuwe lewe. Ek en jy. En ons kindjie. Hy praat en praat en praat. Vir hom is als so eenvoudig. Hy het gedink en besluit. Klaar. Maar dis nie vir hom nodig om vir sy mense koebaai te sê nie. Daar sal geen groot verandering of aaning in sy lewe wees nie. Vir hom sal die lewe aangaan soos voorheen, maar nie vir my nie. Ek is die een wat afskeid moet neem. My kop draai, ek wil slaap. Sy lippe druk op myne. “Ek kom weer,” sê hy. Hy steek sy hand onder die kombers in en vryf saggies oor my maag. “Look after my baby.” My drome kom en gaan. Ek probeer van hulle ontsnap, maar hulle jaag my. ’n Nurse praat met my, maar my ooglede is te swaar om my oë oop te maak. Antie Smiley praat met my: Jy moet weer kom. Jy moet weer kom. Jy moet weer kom, sê Boytjie. Antie Smiley vryf oor my arm en ek wil haar teen my vasdruk en op haar skouer huil. Nou is antie Smiley se gesig skielik verskrik, die glimlag is weg. Nee, sê sy, jy is nou wit. Gaan weg! Bly weg van my seun! Jou verraaier! Laki kom die aand na werk. Uit sy sak haal hy ’n boeboenjéra. “You like?” Dis ’n groot wit blom van sagte sy. In elke blomblaartjie is ’n versuikerde amandel. Ek hou aan die stingel vas en bekyk dit. Onderaan die blom is ’n
sakkie van net met nog amandels in. “It is beautiful,” sê ek. Pyn ruk skielik deur my lyf en ek kan die bloeding voel. Laki roep die nurse. In ’n ommesientjie word daar met my deur die gange gejaag, bed en al. Labour Ward lees ek bo my kop. Die incubator vir die baba word haastig nader gesleep. Laki se stem dreun in my ore en hy is by toe die ergste pyne kom. Binne minute is dit alles oor, my swangerskap iets van die verlede. Laki hou my vas en ek huil bitterlik. My bybie is dood, gebore maande voor sy tyd. Hulle het als probeer om hom sover te kry om asem te haal, maar die longetjies was te onontwikkel, sê die dokter. In my onderste laai lê die twee babapakkies en kombersie wat ek lank gelede gekoop het. My hart is stukkend. Daar sal nog baie wees, troos Laki. Hy sit nog by my terwyl hulle my was en aan my peuter. “I want to see my baby,” sê hy. Ek skud my kop, ek kan dit nie aanskou nie, nie weer nie. “What is the point . . .” fluister ek. “I want to see my baby,” sê hy vir die dokter. Die dokter beduie na ’n staaltrollie en die suster bring ’n niervormige bakkie vir Laki. Hy druk sy arm onder my skouers in en lig my effens op. “Look, Pattie, your son.” My oë verstar op die inhoud van die bakkie. Dit lyk soos ’n poppie wat lê en slaap, die lengte van ’n opgooibakkie. Sy kleur is blou van sy kroontjie tot sy toontjie. Hy lê op sy sy, knietjies opmekaar, handjies oormekaar. ’n Nattigheid loop skielik oor sy voorkoppie, oor sy klein neusie. Dan oor sy skouertjie, sy armpie . . . my trane bly val en maak stroompies van verdriet op ’n stukkie vel van volmaaktheid.
Laki hou my stywer vas en ek voel die ruk in sy bors. Ons seun is dood.
Hoofstuk 22
Ek bly nog twee dae in die hospitaal. “Vergeet eers van jou werk, van die troue,” vermaan die dokter, “rus eers.” Hy gee my ’n briefie wat sê ek sal nog ’n week af wees. Laki kom Dinsdagoggend vroeg om my te kom haal. Terug in my flat lê ek opgekrul op my bed. Laki sit op ’n stoel oorkant my, sy elmboë op sy knieë. Op die tafel staan ’n ruiker rooi rose. Ek sê vir hom ek het nog nooit so ’n mooi ruiker gesien nie, baie dankie, ek waardeer dit. Toe huil ek. “You have pain?” vra hy. “Nee, ek is net hartseer oor die troue, die bybie, sommer oor alles.” “Is not your fault. Doctor say you must rest. We marry later.” My Griekse god. Met die mooi bruin oë, die sterk ken. Hoe goed onthou ek nog die aand toe ek saam met Sotos by sy flat opgedaag het. Ek dink ek het daardie aand al ’n bietjie verlief geraak. “Jy is pragtig,” sê ek en hy soen my hand. “You want more kisses?”
Later die dag kom Dorie, Kay, Dadda en antie Mona vir my kuier. Die antie wil my net opvreet van besorgdheid en liefde. “Ai, Pettie, dat juis djy nou dit moet oorkom! Watse geworrie is dit dan nou?” “Nee, sommer slegte eetgewoontes. Van nou af sal ek gesonder moet eet, dis al.” “Djy moet kyk na djouself. Djy laat ons worrie. Kyk hoe lyk djy, so bleek en pap.”
Dorie praat oor die oorsake van ’n maagseer en ek moet lelik wal gooi met al haar mediese vrae. “Laki moet kyk na haar,” besluit Dorie. Stilte. Antie Mona skuif ongemaklik in haar stoel. Hulle weet van die witpapiere, die verlowing, en ek weet nie wat om te sê nie. Moet ek om verskoning vra omdat ek nou wit is? Dit voel vir my so. “Ek het Dadda alles vertel. Jy weet, van jou en Laki. Dis bieter so.” “Dankie, Kay,” is al wat ek kan uitkry. My dadda staan nou nader. Hy buk en vryf ’n bietjie oor my bene wat warm onder die dik kombers lê. “Jy moet maak soos jy goeddink, my baby girl. Laki lyk na ’n goeie man.” “Dankie, Dadda. Hy is goed.” “Gaan djulle sommer nou trou?” vra antie Mona. “Nee, nie nou nie.” Kay en Dorie kyk my vraend aan. Ek kyk weg. Daar is iemand by die deur. Dis Maggie en agter haar loop Laki. Sy val amper op die bed langs my neer. “Wat sê die dokter? Is djy nou olraait?” “Hy sê ek moet rus, dis al.” “Het hulle djou pille gegee?” vra sy weer. “Ja, hulle het.” Eintlik is dit net vitamienpille, maar hulle hoef dit nie te weet nie. Kay kom van die kombuis af en dra ’n skinkbord met bekers koffie en biscuits. Sy sien eers nie vir Laki raak nie en wil weet hoe Maggie hier gekom het.
“Laki het my gabring. Ek was so surprised toe hy daar aankom en sê djy is nou by die huis.” Laki. Laki! Sy kan sy naam sê. Ek kyk na Laki. Hy staan eenkant, hande agter die rug, en hy glimlag. Nes daardie eerste aand saam met Sotos. Die vrouens trek hulle stoele nader aan die bed. Hulle wil alles hoor wat in die hospitaal gebeur het, wat die dokter gesê het. Ek praat, maar los die details uit. Dadda staan nader aan Laki en hulle begin gesels. “Ek het groot nuus,” sê Kay uiteindelik. “Ek het nog ’n job gekry!” My oog vang vir Dadda en Laki waar hulle eenkant staan. Dadda steek sy hand uit en hy en Laki skud hand. “Congratulations, Laki, I hear you and my daughter . . .” “Waar kry djy nou nog ’n job?” wil antie Mona weet. “Watse werk is dit?” vra Maggie. Laki glimlag van oor tot oor. Dadda sit sy arm om Laki se skouers en die twee mans loop kombuis toe. Ek hoor hy sê vir Laki: “Now you really are lucky. Lucky to marry my daughter!” Die twee skater van die lag. “Ek het ’n job net ’n blok van die huis af gekry, by Green’s Super Shop. Dis nou Wednesday afternoons en Saturday afternoons, op my off-middae. En weet julle wat is die pay? Forty rand!” Kay skree amper. “Vir net two afternoons a week!” “Wat moet djy doen?” vra antie Mona. “Ek, mevrou Peters, is ’n cashier!” Ons wens haar almal geluk. Dis inderdaad goeie nuus, ’n bruin vrou as cashier! Die betaling is baie goed. Ek dink skielik aan Faantjie, wat van hom? “Die ousie langsaan gaan die twee middae na hom kyk. Ek betaal haar natuurlik iets.”
“Hoeveel pay kry djy dan nou, altesame?” wil antie Mona nuuskierig weet. Kay vertel haar. “So baie, nè!” sê antie Mona en klap haar hande saam. “Nou is ek ’n cashier,” sê Kay weer. Die woord rol van haar tong af en sy lyk omtrent in haar skik. “Nie djou everyday servant girl nie, ma ’n cashier!” praat Maggie nou ook opgewonde saam. “Veels geluk,” sê ons weer. “Luister nou mooi, Kay,” praat antie Mona ernstig. “Die geldjies is nou ekstra, nè? Nou dja, djy vat dit en djy spaar dit vir ’n rainy day.” Kay stem saam. Maggie en antie Mona praat voort oor die noodsaaklikheid van spaar vir ’n rainy day. Iemand klop en Dorie maak oop. Dis Boytjie. Hy groet almal en wil nog vra hoe dit gaan, toe stop Dorie hom ’n eetdingetjie in die hand en wys hom gesels-gesels waar om te sit. Maggie en antie Mona sit nou eenkant op die bank en gesels kopstukke. Dadda en Laki is nog in die kombuis. Kay maak nes langs my op die bed, nog liries oor die baie geld wat sy gaan kry. Klein Faantjie sit op die vloer met ’n beskuitjie in sy vet handjies. “Wat van die troue?” wil Kay in ’n fluisterstem weet. “Vir eers uitgestel,” sê ek platweg. “Wat is verkeerd? Het julle ’n fight gehad?” “Nee, nee. Ek moet eers behoorlik op die been kom. Laki het ingestem ek moet eers heeltemal aansterk.” Ek aarsel. “En daar is dinge wat eers uitgestryk moet word. Die gaping tussen bruin en wit is baie groter as wat ek gedink het. Wat maak ek met hulle by ’n wit troue?” vra ek en rol my oë in Maggie en antie Mona se rigting.
“Jy nooi niemand van ons nie, dis mos ’n Griekse troue. Anyway, wat sal ons daarvan verstaan? Ek sal satisfied wees met net ’n kiekie en ’n stukkie koek,” sê Kay. Ek druk haar hand. Dit klink so vertroostend. En so eenvoudig. “Ek weet nie,” sê ek, “hoe kan ek my mense net so afsny?” “Ag, nonsens, jy sny niemand af nie. Ons sal nog skelmpies kom inloer by jou. Laki gee nie nou om nie en hy sal na julle troue ook nie omgee nie.” Sy weet nie van die Potchefstroom-planne nie. Ek gaan haar ook nie nou al sê nie. Ek kyk weer na Kay. Die dik bruin hare is nou sonder hoedjie, netjies en stylvol. Sy lyk mooi in ’n gehekelde blou trui en byende oorbelle. “Jy lyk sommer deftig,” sê ek en vat aan die trui. “Wat kan ’n meid in ’n kamertjie heelaand op haar eie doen? Ek hekel maar die tyd om.” “Jy lyk pragtig,” verseker ek haar weer. Ek knipoog. “Dis tyd vir die witpapiere.”
Hoofstuk 23
Die meeste van Maggie se meubelstukkies verkoop ons aan ’n pandjieswinkel. Van die meubelgeld koop ek vir haar ’n nuwe matras, gown en slippers. Die res laai Laki op. Voor Laki vir Maggie gaan haal, rangskik ons die paar goedjies mooi, hang drie geraamde prente op en sit asters in ’n vaas, kompleet met ’n welcome-kaartjie daarby. Mevrou Soes het vir Maggie ’n sonnige kamer gegee, naby die badkamers en toilette. Maggie gaan sit op die bed en kyk om haar, sug en steek ’n sigaretjie aan. Mevrou Soes kom in met ’n koppie tee en biscuits. “Welcome, antie,” sê sy vriendelik. “Antie gaan sommer lekka hier bly.” Maggie knik, glimlag breed en die oë blink. Ek en Laki kyk na mekaar. Ons dink ook die antie gaan lekker hier bly.
Laki kom terug van mevrou Soes af waar hy vir Dadda-hulle gaan kuier het. Ek het moegheid gepleit en nie saamgegaan nie. Hy vertel my dat Dadda-hulle môreoggend vertrek; hy het beloof om hulle stasie toe te vat. Maggie is nou al ’n week by mevrou Soes. Laki sê Maggie dink mevrou Soes is “quite olraait” en mevrou Soes sê die ou antie is “too nice for words”. Amen, dink ek. Ons sit oorkant mekaar by my tafeltjie en hy vertel verder dat hy elke aand terwyl ek in die hospitaal was ’n draai by Maggie gemaak het. Sy het hom eers nie vriendelik ontvang nie, maar hy het gevoel sy moet weet hoe dit met my gaan. En sy was baie bekommerd oor my. Natuurlik het hy gesorg dat hy altyd ietsie saamneem; hy maak asof hy ’n sigaret tussen sy vingers vashou en kamma rook. Jou skelm ding, dink ek. Ons lag albei.
“ ’n Peace offering,” sê ek. “Ja,” sê hy, “I want peace.” Hy het vir haar gesê ons trou sodra ek weer op die been is, eers in die hof en dan in die Griekse kerk. Ons nooi niemand. “Wat het sy gesê?” vra ek benoud. “Not much,” sê hy skouerophalend. “Ek dink sy het baie te sê gehad,” kap ek terug.
Die volgende dag is ek eintlik spyt dat Dadda-hulle weggaan. Dis Saterdag en Laki het my kom haal om saam stasie toe te gaan. Buite die flats kyk ek verbaas na sy bakkie. “Your bakkie has a canopy!” “You like it?” Die bakkie lyk skoon anders met die dakkie van agter. Aan elke kant is ’n skuifvenstertjie en heel agter ’n deurtjie. “Is dit regtig jou ou bakkie? Hy lyk so nuut.” “I spray it. Now it is new. Éla, éla. Kom.” Ons laai vir Dadda en antie Mona op. Maggie wil nie saam stasie toe nie. Ek en antie Mona sit agter op die vinyl-kussings; die mans sit voor. Antie Mona vertel net van die “lekka holiday” wat hulle in die Transvaal gehad het. Hulle kom definitief weer, belowe sy. Ja, ja, dink ek. “Kyk nou mooi agter djouself, nè,” vermaan sy my uit die trein. Laki gee die koffers aan deur die kompartement se venster en Dadda stoot dit onder die banke in, plaas die carrier bag bo-op. Die mans skud hand. Wit mense loop verby en kyk ons afkeurend aan toe ek en antie Mona soengroet. Bruin mense kyk ons vraend aan. Ek voel skielik ongemaklik en wens die trein
wil ry. “Dis jammer Kay issie hier nie, maar ons het gegroet,” sê Dadda. “En Dorie werk ook,” voeg ek by. Net toe sê Laki: “Kyk daar.” Dorie kom aangehardloop. “Ek is darem betyds,” sê sy ’n bietjie uitasem en groet almal. Sy gee ’n bottel Oros en ’n pakkie beskuit deur die venster aan. “Padkos vir julle.” Sy het haar verpleeguniform aan en moet oor ’n uur terug wees by die hospitaal. Die fluitjie blaas. Ons groet weer, praat die laaste paar woorde. Die fluitjie skree ’n tweede maal en dan rol die wiele. Die ou mense waai, die jonges waai terug. Ons loop terug na die parkeerplek. “Dankie tog hulle is weg,” sê Dorie. “Het hulle darem lekker gebly by mevrou Soes?” wil ek weet. “Lekker gebly? Antie Mona het omtrent die plek oorgeneem en mevrou Soes uit die huis geëet!” Ons lag lekker. Laki loop koop koeldrank by ’n kafee. Ek vertel vir Dorie van Laki se nuwe bakkie. By die parkeerplek bekyk sy die bakkie, voel aan die bakwerk. Haar oë lag ondeund. “Ja-nee, dis splinternuut,” sê sy. “Nee, man,” bely ek laggend, “dis die ou bakkie. Hy is net geverf.” “Spray, not paint,” sê Laki en gee vir ons elkeen ’n botteltjie Coke. “Baie mooi, Laki, nou kan almal eenslag saamry,” lag sy. Sy kyk op haar horlosie, sy moet spore maak. Sy kyk weer ’n slag na die bakkie, sê dan: “Jy kan maar jou bruid oplaai met hom. Moet nou net nie so lank wag dat hy begin afskilfer nie.” “Ons trou gou-gou,” beloof Laki. Dorie groet haastig en ons kyk haar agterna. Laki gee my hand ’n drukkie.
“Can we marry? How you feel?” “Nee, nie nou al nie. Ek voel nog nie honderd persent nie.” “I wait,” sê hy op sy saaklike manier.
By my flat se deur staan twee mans. Ek ken hulle nie. Tussen hulle, toegedraai in bruinpapier, staan ’n pak amper vier voet hoog. “Is djy Miss Peters?” vra een. “Ja, wie is julle?” “Ek is Patrys, dis my pel Johnnie. Is djou pa al weg?” “Yes,” sê Laki. “What you want?” “Mister Peters het lat wiet ons moet hierie vir djou bring. Ons kom al die ent vannie Kaap af. Ons werk saam met hom, hy het gawiet ons kom, toe bel hy gister en vra ons moet dit saambring.” “Wat is dit?” vra ek. “Nei, Miss Peters, dis ’n surprise. Die oubaas het gesê dis ’n wedding present.” Patrys en Johnnie lag, dis duidelik hulle geniet die situasie. “Dankie,” sê ek, “en nogmaals dankie.” Hulle maak aanstaltes om te loop, maar huiwer tog ’n oomblik en kyk Laki vas in die gesig. Hy stop albei iets in die hand. Met ’n “Dankie, meneer” hardloop hulle die trappies af. Ek voel aan die pak, maar dis swaar. Toe hoor ons dit: tik-tak, tik-tak. Mona stuur die bom vir my, skerts Laki, maar hy tel die pak op en dra dit binnetoe. Ons trek albei aan die bruinpapier en spons. Ek kan my oë nie glo nie. “Dis my pa se grandfather clock,” sê ek, “dis ongelooflik.”
“Very, very nice,” sê Laki. “Dis stokoud. Ek het grootgeword met die ding en ek kan nie glo dat my pa dit vir my gee nie, sommerso. En hy het niks vir my daarvan gesê nie.” Laki bekyk die klok van nader. “Baie mooi, good condition. Right time.” Ek is dronkgeslaan oor die geskenk. “Ek wonder of antie Mona van die klok weet. Dis die grootste geskenk wat enigeen my kan gee. Dis ’n regte familie-erfstuk, en hy gee dit vir mý.” “Vir ons,” sê Laki. “Die man se wedding present, onthou?” Ons troue dra my pa se goedkeuring weg, dis duidelik. Hierdie vier voet hoë stinkhoutklok is sy seën op ons. Ek weet dit, Laki weet dit. Laki bekyk nie net die wedding present van buite nie, hy is so ingenome daarmee dat hy dit van binne ook bekyk. Dis egte hout, sê hy. Dis stinkhout, sê ek. Hy moet gaan, sê hy dan effe teësinnig. Sy werkers wag vir hom, hulle het ’n job om klaar te maak. Hy gee my ’n vinnige soen en is uit by die deur, maar nie sonder om nog ’n maal na die klok te kyk nie.
Ek sit by my kombuistafel. Die onsekerheid oor ons troue maak my mal. Liewer nou die teleurstelling as die ontnugtering later. Ek moet eers leer hoe om sonder my bruin mense klaar te kom. Dit gaan tyd neem. En die seer van die bybie lê nog diep, ek wil nog rou. Laki het ons seun laat begrawe. Ek het nie kans gesien om mee te doen aan enige begrafnisreëlings nie. Hy het verstaan. Sal ek ooit weer by ’n antie Smiley kan gaan kuier of vriende kan maak met ’n Lettie as ons eers getroud is? Ek glo nie, en dis waar die seer lê.
Óf ek bloei dood van verlange na my mense, óf ek dood van die seer sonder Laki. Maar dit voel vir my dood sal ek dood . . .
Hoofstuk 24
“Jy moet gou kom, hy lyk sleg,” sê die stem oor die foon. Die koue van die winter is iets van die verlede en ek is al ’n paar dae terug by die werk. “Jou broer is met die mes gesteek. Hy lê in die hospitaal.” Ek sien nie kans om met die trein Pretoria toe te gaan nie, nie in die aand nie. Laki vat my. In die groot hospitaal loop ons gangop en gangaf op soek na Stewie. Ons kry hom in ’n klein kamertjie. Hy lê doodstil met toe oë. Laki sê na ’n paar oomblikke hy gaan terug na sy bakkie toe, hy is bang hulle steel dit. Ek staan langs Stewie se bed, roep sy naam. Sy bruin gesig lyk bleek en hy is vol pypies. Die swart hare staan wild teen die kussing, maar dis dieselfde lieflike gesig van my kinderdae. “Stewie, dis ek, Pattie. Kan jy my hoor?” Hy maak sy oë stadig oop en kyk na my. Sy oë is glaserig. Aan die een kant van sy gesig loop ’n lang merk wat netjies toegewerk is. Ek tel een van sy groot hande op. Dit voel sag. My pa sou sê dis die hand van ’n penpusher. “Stewie, hoor jy my? Dis ek, Pattie.” Hy sê hy hoor my. Hy het pyn. Sy lyf, sy kop. Ek skrik toe hy praat. Sy stem klink asof dit ver en diep uit sy lyf kom. “Ag, my ouboet, wat het gebeur?” Hy het die mans sien baklei, sê hy, maar dit was drie teen een. Toe reken hy dis unfair, hy moet die underdog help. Dit was laat en donker, hy het overtime gewerk. Eers skree hy net vir die mans om te voertsek, maar hulle hou aan om die underdog te skop en te slaan.
Hy snak saggies na asem, bly eers ’n rukkie stil. “Jy moes liewer weggebly het,” sê ek, “dis Stofdorp se gemors.” Die buurt waar hy bly, het eintlik ’n fancy naam, maar almal noem dit sommer Stofdorp. Die regering het begin om huise te bou vir die bruin mense, maar hulle het nie vinnig genoeg gebou nie. Baie mense het van ver gekom met hulle sink en self huis opgesit. Toe het die regering opgehou bou. Stewie sê dis nie Stofdorp se mense nie, dis die squatters. Baie van hulle werk nie, maar hulle syp en weet van moeilikheid maak. Stewie spring toe in om die man te help, maar die man bly lê. Toe tackle die ander drie hom. Die een het so ’n klein pocket knife en hy steek en steek. Die ander twee slaan en skop. Sy ribbes is af, sy binnegoed het seergekry. Ek vee die trane af, wens Laki was by om my te troos. Stewie hoor mense kom aangehardloop, sien iemand buk oor hom. ’n Man praat met hom, maar hy kan nie antwoord nie, hy het te seer. “Sam, bring die van, die man moet hospitaal toe,” sê ’n wit man se stem. Die man haal sy hemp van sy lyf af, skeur dit, vee die bloed uit my broer se oë, verbind sy arm. Hy laat Stewie ’n bietjie water drink uit sy kannetjie. “My sussie, die mans tel my stadig op, versigtig, asof ek ’n bybie is. Hulle sit my oppie van en sit iets sags onder my kop. Die wit man hou my vas, hy sê virrie bruin man: ‘Jy ken die pad, ry dat jy bars, die man is besig om dood te gaan!’ ” Stewie maak sy oë toe; hy sukkel om die woorde uit te kry. “Ek is lucky, Pettie. Net my watch het hulle afgeruk. My geld is nog safe, ek het dit innie lining van my hoed weggesteek. Moenie worrie nie, Pettie.” Maar hy lyk en klink soos iemand wat doodgaan. Dorie en Kay moes saamgekom het, dink ek spyt, en Maggie, ons is almal lief vir hom, ons enigste broer. “Sal jy die mans weer herken?” vra ek hoopvol.
“Die een se naam is Jumbo, ek het hom al baie gesien.” “Het jy dit vir die polisie gesê?” Ja, hy het alles gesê. Hy lyk gedaan en ek kan hom nie meer aankyk nie. “Koebaai, my broer,” groet ek. “Koebaai, my sussie,” groet hy. “Ek is olraait . . .” Laki staan langs die bakkie. Ek val in sy arms en snik op sy skouer. Ek vertel hom wat gebeur het, hoe erg Stewie lyk. Hy moet weggaan van Stofdorp, sê Laki. Waarheen? vra ek. Hy werk in Pretoria, Stofdorp is die naaste blyplek. Dis gevaarlik, hulle kan hom doodmaak, sê Laki. “Stewie is gewoond aan gevaar. Al die jare bly hy in die gopse. Baie maal sonder straatligte hardloop hy weg vir die skollies, die tsotsi’s, die polisie. Nou bly hy by goeie mense in ’n agterkamer. Hy is gelukkig. Die mense is goed vir hom; hy moet daar bly.” Laki sug, maar sê niks verder nie. Sug maar, dink ek, wat verstaan jy van dié soort lewe? Die hospitaal se reuk bly in my neusgate en ek voel bang. Hy het so hulpeloos gelyk, so amper dood. Ek sidder. Laki wil polisiestasie toe. Van Pretoria vra ons die pad na Stofdorp, dan na die polisiestasie. Ons ry baie verkeerde draaie, kom uiteindelik by die polisiestasie aan. Daar is ’n konstabel Tshabalala en ’n sersant Bantjies aan diens. “My naam is Pattie Peters,” sê ek. “My broer was gister aangerand, hy lê in die hospitaal. Het julle al iemand aangekeer?” Hulle weet van die geval, ’n docket is oopgemaak. Stefanus Peters is die man se naam wat aangerand is. Meneer Peters het die een man geïdentifiseer as Jumbo. Dié Jumbo is bekend aan die polisie. Hulle soek na hom en hulle sal hom nog
kry. Die ander man in die bakleiery is dood; dis moord. “Waar gaan julle hom kry,” wonder ek hardop, “in dié mengelmoes van mense?” “Ons sal hom kry, die ander twee ook. Ons manne weet waar om te soek. Sooner or later sal hulle gevang word.” My broer kan dalk sooner or later sterf en wie gaan dan die mans uitken? Ek het my werksnommer en Laki se nommer by die hospitaal gelaat en gee nou die nommers vir die polisie ook. “Just in case,” sê ek, “ ’n mens weet nooit, miskien vang julle tog die criminals.” Hulle skryf dit in Stewie se lêer. Terug by Laki waar hy in die bakkie sit en wag, sê ek vir hom niemand is nog aangekeer nie. “Is daar wit mense daar binne?” “Nee, natuurlik nie,” sê ek, “dis Stofdorp.” “That is why,” sê hy, maar ek antwoord hom nie. Ek is hartseer oor Stewie en is nou nog vies vir Laki ook. Laki ry deur Pretoria se strate, stop en gaan in by ’n kafee. Hy klim weer langs my in en sê net kortaf: police station, two blocks down. Ons ry two blocks down, stop voor die polisiestasie. My mond is gesnoer. Ek weet hoekom hy hier wil wees: hy vertrou nie die bruin mans in Stofdorp se polisiestasie nie. Hy maak die deur vir my oop. Kom saam, sê hy. Vies en baie teësinnig klim ek uit. In sy deurmekaar Engels en Afrikaans vertel Laki die polisie van die aanranding. “Wat het die man in Stofdorp gaan maak?” vra die sersant. “Hy bly in Stofdorp,” sê Laki. “Dan is hy ’n bruin man,” sê-vra die sersant terwyl hy probeer om die kloutjie by
die oor te bring. “Ja, hy is bruin,” sê Laki en ek hoor die ergernis in sy stem. Plaas hy sy smoel hou, maar nee. “Dis haar broer,” las hy by en kyk vlugtig na my. Stilte. Die polisiemanne kyk na my. “Werk jy vir dié man?” vra die sersant en rol sy oë in Laki se rigting. “Nee,” sê Laki amper te hard. “Ons is vriende.” Hy gee my weer ’n vinnige kyk, hy besef nou in watter rigting die sersant se belangstelling gaan. Ek kon die scene al in die bakkie vir hom beskryf het, dis so voorspelbaar soos ’n blouoogma en -pa se blouoogkind. Die sersant druk met sy kneukels op die toonbank, leun effens vorentoe en kyk Laki vas in die oë. Sy houding is dreigend. “ ’n Wit man in Stofdorp soek moeilikheid,” sê hy sag. Hy aarsel ’n oomblik. “Laat sy saam met bruin mense gaan as sy weer soontoe wil gaan. Ons het gehoor van die geval. Ons hou ons ore en oë oop, maar die polisie daar in Stofdorp ken die man. Hulle sal hom vang lank voor ons nog sy spoor ruik.” Dis al. Die sersant maak sy papiere op die toonbank bymekaar en draai sy rug op ons, die immigrant en die bruin meisie. Laki word ergerlik. Hy begin protesteer, maar ek vat sy arm styf vas om hom stil te maak. Die sersant draai om en sien dit. Hy draai weer na Laki toe. “Hoe lank is jy in die land?” vra hy. “Why?” vra Laki vies. “Can I see your driver’s licence?” Laki se mond gaan oop van verbasing. Hy kyk na my en gee ’n sarkastiese laggie. Sonder om weer na die sersant te kyk, sê hy: “A man is nearly killed and he ask for licence! Is he traffic cop?” Laki, bly stil! Bly stil! skree dit in my.
“No, sir, I am not a traffic cop, but I am the arm of the law and I can demand to see your driver’s licence.” “Why?” skree Laki. “I don’t kill nobody!” Die bloed in my are is nog bruin, ék weet hoekom. Ek draai na Laki en sê hard: “Hulle dink jy flirt met ’n bruin vrou en dis teen hulle law, maar hulle het nie bewyse nie, nou probeer hulle jou op ’n ander manier vastrek.” “Jou vriendin het dit gesê, nie ek nie,” sê die sersant net so sarkasties, sonder om sy oë van Laki af te haal. Nou is Laki behoorlik kwaad. “Show him your papers,” sê hy kras vir my. “Hulle het nie vir mý papiere gevra nie, hulle het jóú papiere gevra. Wys jý hulle!” Ek swaai om en loop uit. Buite staan ek by die bakkie met ’n woede wat my wil laat moord pleeg. ’n Paar minute later is Laki by my. Hy klap sy deur hard toe. Ek doen dieselfde. “Pigs! Varke! This country is mad!” “Ag, hou op om so te kere te gaan! Hulle dink ek is bruin, dis al. My broer is bruin, dus is ek ook bruin. Baie eenvoudig. Vir wat de duiwel sal hulle na ’n bruin man se aanvaller loop soek? Stofdorp is nie hulle gebied nie, hulle stel nie die minste belang nie. Die bruingoed baklei elke dag, het jy dit gehoor? Die bruingoed syp te veel, het jy dit gehoor? Het jy gehoor!” skree ek. “Keep quiet!” sê hy vererg. “Ek sal nie keep quiet nie! My hele lewe lank word ek só behandel, deur omtrent al wat ’n wit mens is. Die polisie praat met die bruin mense soos jy met gemors praat, hulle luister nie na ons nie. Nou vir die eerste keer doen hulle dit met jou en jy word so kwaad. Ag, siestog! As ek nie by was nie, sou hulle nie so met jou gepraat het nie.” “Jy praat die nonsense.”
“Ek, Laki Pappasani, praat die waarheid! En so sal dit ons hele lewe lank wees. My familie, my verlede sal met my saamloop, so lank as wat ek lewe. Ek sal baie maal moet verduidelik: Nee, kyk, my broer is nou wel bruin, of my antie is bruin, maar meneer sien, ék is nou classified as white.” “Shut up!” skree Laki vererg. “Word kwaad, maar dis die waarheid. So sal dit met ons gaan. Ons kan nie trou nie, ons pas nie. Bruin moet met bruin trou, wit met wit. Ek is bruin gebore en bruin sal ek vrek!” My asem jaag. Nou is dit uit. Ek voel soos iemand wat gif gedrink het en dit op die eerste die beste mens uitgespoeg het. Ons kan nie trou nie. Die gaping is te groot. Nie een van ons sê ’n woord verder nie. By die blok flats staan ons oorkant mekaar in die lift. Een kyk op die vloer, die ander na die dak. Nou is dit die einde, dink ek.
Ek bly die meid! Ek bly die meid! Nou’s die tyd om my weg te smyt!
Die volgende môre klop ek vroeg aan Laki se deur. “Kan ek bel, asseblief? Ek moet hoor hoe dit met my broer gaan.” Hy sit oorkant my, op die stoel se punt. Ons kan mekaar nie in die oë kyk nie. Sy elmboë rus op sy knieë en hy tel die stoffies op die mat. Ek skakel. Hoe gaan dit met my broer, Stewie Peters? Stilte. Is hy dood! skree ek amper.
Nee, hy is nie dood nie. Op die oomblik slaap hy. Dit gaan ’n bietjie beter. Die gehoorbuis gly in my hand, die sweet slaan op my lyf uit. Sê vir hom liefdegroete, ek sal weer bel. Ek sit terug in die stoel, maar dis asof my liggaam heen en weer, heen en weer wieg. Ek voel so magteloos. Ag, Heretjie, bid ek diep in my binnekant, kyk na hom. Moenie dat hy sterf nie, ons is lief vir hom. Ék is lief vir hom. Laki kyk my vraend aan, maar sê niks. “He is the same,” sê ek net. Ek maak die voordeur oop en toe sonder dat Laki van posisie verander. Ek moet vir Kay gaan sê, en vir Dorie en Maggie. Laki moet my nie na hulle toe neem nie, ek sal dit op my eie manier doen. Die bruin mens is gewoond aan loop, dink ek bitter. Ek loop reguit na mevrou Cohen se huis. Die honde blaf. Meneer Cohen kom kyk, sleep die honde die huis binne. Ek klop hard en dringend aan Kay se deur. Sy slaap seker nog, dink ek, dis baie vroeg. Maar sy maak dadelik oop. “Pettie! What a surprise!” Sy sien my trane en vra angstig: “Wat makeer?” “Dis Stewie. Hy was aangerand en lê in die hospitaal.” Ek begin huil. Sy druk my vas en lei my na die bed toe. Ons sit langs mekaar en ek vertel haar die hele storie. “Maggie moet ook weet,” sê sy. “Wag hier, ek gaan met mevrou Cohen praat.” Sy kom terug en trek ’n warm trui aan. Die vroeëmôreluggie is nog koel. Ons val in die pad en loop asof die duiwel agter ons is. Doornfontein lê ver. Dorie slaap nog, dis haar dag af, maar Maggie sit by mevrou Soes aan die kombuistafel, hulle drink hulle eerste koppie koffie. Ons vertel vir Maggie die nuus, maak vir Dorie wakker en vertel haar ook.
Ons moet ons broer gaan kyk, besluit ons. “Die hospitals lieg altyd,” sê Maggie, “ons moet self loop kyk.” Maar in die dag is dit moeilik, ons werk almal. Ons sal in die aand moet gaan. Maggie sê: “Die treine is te dangerous laataand, dis ver Pretoria toe.” Ek sê eenvoudig dat Laki ons nie kan vat nie, hy moet werk. “Vandag is Donderdag,” sê Dorie ingedagte. “Boytjie het gesê hy werk nie Donderdagaande nie. Kan ons hom vra om ons te vat? Ons kan iets bydra vir die petrol,” sê sy hoopvol. Ons knik almal. Dis goed so, ons sal iets bydra.
Ek kom laat by die werk aan, maar my baas is simpatiek en raas nie. Ek worrie die hele dag. My gedagtes vlieg diékant toe, dan daaikant toe. My arme ouboet, dat hy so iets moes oorkom. Ek moes vir my ma koebaai sê, toe vir Kitty en my bybie, en nou? Moet ek my ouboet ook groet? My hart is baie seer. Die duiwel maak my wys dat die Here my straf omdat ek nou wit wil wees, Hy het my mos nie so gemaak nie. Miskien het ek die bybie ook verloor as straf. Antie Smiley het gesê: “God wil hê die man moet die vrou volg, nie andersom nie.” Vroegmiddag bel ek weer die hospitaal. Hy is stabiel, is al wat hulle sê. Laatmiddag sit ons ingeryg in Boytjie se kar. Hy het my sommer by die werk kom oplaai, my toe eers na my flat geneem. Laki en Kosta was nog nie tuis nie. Ek het ’n briefie op my voordeur gelos wat net sê: Ek is na Pretoria. Stewie lyk nie vir my beter nie. Hy is nog vol pypies. Sy glimlag is flou, die oë nog verlep, maar sy stem klink tog ’n bietjie sterker. Trane laat brand my oë en ek hoor hoe Maggie haar asem vinnig intrek. Sy het dit nie verwag nie. Kay buk versigtig oor hom en soen hom saggies op die wang. Toe is dit sommer snot en trane. Maggie vee ook met haar groot sakdoek telkemale oor haar gesig. Dorie staan sprakeloos, maar sy bekyk tog die drupsakkie, die pypies, die
katetersakkie asof sy wil seker maak als werk reg. Ek druk my ouboet se groot hand en voel hoe hy probeer terugdruk, maar daar is geen krag nie. “Hy’s dood,” sê Stewie in ’n fluisterstem. “Wie is dood?” “Die man is dood. Die een wat my gesteek het. Hy’s dood mettie mes.” “Was die poelies by djou?” wil Maggie weet. Hy knik effens. Die polisie was by hom en het snaps gebring. Hulle het vir hom gesê Jumbo is later daardie nag nog in ’n bakleiery doodgesteek. Hy het gekyk na die snaps en die ander twee ge-identify. “Dis hy, olraait, het ek vir hulle gasê en die een met my vinger uitgewys. Toe die ander een. Dis hy, olraait, het ek weer gasê.” “Dan is hy dood soos hy gelewe het, met die mes. Dis goed so.” Ek skrik vir die bitterheid in my stem. “Ja, dis goed,” stem Kay saam. “Die vullis, hy het dit verdien.” Maggie en Dorie stem saam: hy het dit verdien. Boytjie staan eenkant. Hy sê niks. Ons praat en Stewie knik. Ons vra en Stewie knik. “Ek is so seer,” prewel hy. Met my koue vingerpunte vee ek saggies oor sy warm voorkop, trek effens aan sy oorlel. “Jy moet gesond word, dan speel ons weer albasters.” Hy glimlag mooi maar flou. Maggie vee weer met die sakdoek oor die oë. Besoektyd is verby. Stewie skud kamma Boytjie se hand, maar ek kan sien hy vat-vat net die hand. Die volgende dag toe ek bel, sê hulle hy is ’n bietjie beter, hy maak tog
vordering.
Laki wag vir my by my voordeur. Ek groet effens. Ons drink koffie, maar gesels nie. Die ding van Stofdorp lê nog te diep. Hy sê hy kom hoor hoe dit met Stewie gaan. Ek vertel hom. Hy drink sy koffie klaar en groet. Ek is nog lief vir jou, skree my hart. Gaan weg en los my uit, sê my verstand. Die volgende aand kom Laki weer en dié keer is Kosta by. Laki dra ’n klomp papiere in sy hand en Kosta die skaakbord. “Kosta wants to play chess, I have work,” maak Laki kamstig verskoning. “I make coffee,” lag Kosta. Ons twee bly ’n rukkie doenig in die kombuis. Terug in die sitkamer speel ek en Kosta ’n paar potte skaak terwyl Laki ’n klomp dokumente deurgaan. Laki sê saaklik dat Pretoria weer Kosta se Temporary Permit verleng het. Hy sukkel nog om vir Kosta permanente verblyf te kry; hy weet nie meer wat om te doen nie. Kosta is nie veronderstel om te werk nie, hy kan opgesluit word. It is big worry, sê Laki. Na die vyfde pot skaak en die tweede koppie koffie sê ek dis genoeg, ek gaan nou slaap. My kop voel dik en ek is moeg. Kosta pak die skaakmannetjies weg. Laki sê nie veel nie, maak net sy papiere bymekaar. Die mans groet. In die donkerte jaag die spoke my. Ek het gesê liewer die teleurstelling nou as die ontnugtering later, maar my hart wil breek. Boytjie flits deur my gedagtes, dan Laki, dan Boytjie.
Vroeg Sondagoggend maak Laki my wakker, maar ek het nie regtig geslaap nie, net nog ’n bietjie ingesluimer. Ek het gehoor hy sluit die voordeur oop. Hy staan voor my met ’n groot bos blomme. “I make peace,” sê hy sag, onseker.
Ek glimlag flou en klim uit die bed. Vat die blomme ’n bietjie teësinnig. “Thank you for the peace offering,” sê ek platweg. In die kombuis haal ek ’n vaas bo van die rak af, tap water in. Ek maak die blomme staan. Hy wys na die kaartjie wat tussen die blomme uitsteek. Ek maak dit oop, maar soos iemand wat nie regtig belangstel nie. Binne staan als in Grieks geskrywe. Ek haal my skouers op. “Ek kan nie Grieks lees nie.” Sy oë vonkel ’n bietjie. “It says ‘I love you’,” sê hy sag. Ek kyk weer na die kaartjie. Daar is baie geskrywe. “And what else?” vra ek, nie heeltemal seker hoe ek moet reageer nie. Is ons nie meer kwaad vir mekaar nie? Is al die harde woorde vergete? Is ons verskille water onder die brug en Stofdorp begrawe? Hy loer oor my skouer, wys met sy vinger onder die Griekse woorde en lees: “Will you marry me?” Sy uitdrukking is pleitend en sy hand bewe. In my binneste kry ek hom jammer, ek was ’n regte heks in Pretoria. Ons glimlag albei. Die ys is gebreek. “Kan ek ’n bietjie daaroor nadink?” is al wat ek kan dink om te sê. “Ja, maar nie baie lank,” sê hy. Ek trek haastig aan, ek wil kerk toe. Na die Anglikaanse kerk. My bybie is al ’n paar weke dood maar die depressie lê nog op my gees, en ek het troos nodig. God se troos. Laki is baie ontevrede. “You must go to Greek church. Greek church is ons kerk.” “Ek verstaan niks.” “No matter. Jy bid jou taal.”
“Ek wil verstaan.” “Die kerk is business,” begin hy weer. Hulle praat politiek en vra geld. Ek moenie glo wat hulle my vertel nie. Dis beter as ek nie verstaan nie; ek moet net bid. As ons getroud is, gaan ons na een kerk. Ons moet een wees, een geloof hê, een pad volg. Die vrou kan nie links en die man regs nie. Saam is ons sterk. Dis hoe God dit wil hê. God is love. Hy hou my hand vas. “We go to Greek church.” “Nee, ek wil liewer na my eie kerk gaan.” Ek moenie so hardkoppig wees nie, pleit hy. Los jou EIE kerk, jou EIE mense. Ons gaan trou, dan is dit ONS mense. Gaan ons regtig nog trou? wonder ek op pad kerk toe. Ek sit in St Mary’s Church. Ek bid vir my sondes, vra vir leiding. Dis ironies, maar die minister bid: “God is Love.” My gedagtes bly by Laki. Uit Johannes lees hy: “He that loveth not, knoweth not God, for God is love.” Stewie is in my gedagtes, in my gebede. Sodra ek tuis kom, moet ek vir Dadda skryf van Stewie. Hy moet weet. Die diens is verby. Buite haal ek diep asem en begin stap huis toe. Ek dink aan Laki se bos blomme en die kaartjie wat sê: Will you marry me? Ek besef skielik dis die eerste keer dat Laki my uitdruklik vra om met hom te trou. Voorheen was die plan maar so, dis nou voor Stofdorp, maar hy het my nooit uitdruklik gevra nie. Nou skuld ek hom ’n antwoord, en ’n apologie. Ek moet om verskoning vra vir al die goed wat ek Donderdagaand kwytgeraak het. Ek het geen reg gehad om so teenoor hom uit te vaar nie. Stewie se dinge het my hartseer gemaak, die sersant het my kwaad gemaak en toe haal ek dit op Laki uit. Hy het dit nie verdien nie. Dis asof die jare lange verbittering oor die bruin mens se lot en Laki se onvermoë om dit te verstaan tot uitbarsting gekom het. Gaan ek werklik Laki se liefde versmaai omdat hy nie kan meedoen aan die
bruin mens se swaarkry nie? Is dit sý skuld dat hy wit is? Hy is Grieks en het niks met die landswette te make nie, besluit ek. Hy is nie aandadig aan enige onreg nie. Die res van die week sleep Laki vlerk by my en met elke aanraking verkrummel my hart ’n bietjie meer.
Hoofstuk 25
Dis weer Sondag en almal eet by my. Boytjie bring vir Lettie, Maggie en Dorie. Laki gaan vir Kay haal. Voor die mense opdaag, lees ek vinnig weer my pa se brief. Hy is bly ek het hom van Stewie gesê. Dit gaan goed met hulle. Hy vra uit na Laki, sê dan baie liefdegroete vir ons. Nadat Laki vir Kay by my afgelaai het, is hy weer weg. ’n Rukkie later daag hy op met ’n bos blomme. “For you,” sê hy vir Maggie en stoot die blomme haar kant toe. Hy sê Maggie moet dit op Kitty se graf sit. Sy is so oorbluf, sy val amper van haar stoel af van verbasing. “Hoe kom ek by die cemetery?” wonder Maggie hardop. “Ek vat jou,” sê Laki. Kay help om die kosbakke tafel toe te dra. Die mense lag en gesels en eet lekker. Ek probeer om Boytjie eenkant te kry om te vra hoe dit met Katrien en die bybie gaan, en met antie Smiley, maar Lettie kloek soos ’n moederhen al om hom. Laki skink weer die glase vol. Ek hou my glas vir hom en voel hoe hy ’n papiertjie tussen die glas en die palm van my hand indruk. Hy knipoog, maak die volgende glas vol. Ek lees skelm: We mary neks sanday? Dis so snaaks dat ek stilletjies lag, maar Kay sien dit. “Waaroor lag jy nou?” wil sy weet. “Sommer niks,” sê ek, haal ’n pen uit my handsak en skryf terug: Sorry about the things I said in Pretoria. I love you. Ek druk die papier in sy baadjiesak.
Dorie kap met haar vurk teen haar glas. Almal se oë draai na haar. “Volgende Sondag vlieg ek Londen toe; my vliegtuig vertrek agtuur die aand. Ek het werk gekry in ’n private clinic net buite London. So hierdie is my farewell party!” Sy kyk na my en dan na Laki. “Ek kan nie langer vir julle twee wag om te trou nie!” “Ons trou next Sunday,” sê Laki en voeg by: “For sure.” Die mense slaan hul hande saam. Uiteindelik! Laki lig sy glas. “To Dorie and to Pattie!” Kay kyk vir my en lag. Sy lig haar glas hoog en sê: “And to Laki!” Laki maak weer die glase vol. Ek hou my hand oor my glas, my kop draai al. Ek word gesoen en gedruk, Dorie word gesoen en gedruk. Almal lag en praat gelyk. “Hoor hoe praat die wyn!” sê ek vir Boytjie wat aan die ander kant van die kamer sit, nie seker of hy my kan hoor nie. Hy lig sy glas in ’n gebaar, maar dis leeg. Sy gesig is uitdrukkingloos. “Sal jy dan iets verstaan van die Griekse affêre?” wil Lettie weet. Ek sal leer, sê Laki. Hy gaan my elke aand ’n klas gee om Grieks te praat. “Dit klink vir my baie na ’n crash course,” sê ek. Die mense lag vir die verbasing op my gesig. “Ek het ’n voorstel,” sê Boytjie na ’n lang stilte. “As Pettie en Laki volgende Sondag trou, gaan ons almal na my huis toe, dan vier ons iets daar.” “Jy mien ons vier somma Pettie se wedding sonner haar?” Lettie se stem klink die ene ongeloof. Ons lag hardop. Ons wonder dieselfde ding. “My broer Koos en sy vrou, Katrien, doop hulle bybie volgende Sondag. Agterna gaan hulle na my ma se huis toe, om dit daar te vier. As elkeen sy eie stukkie vleis saambring, kan ons dit op die kole sit. My ma sal sorg vir
varsgebakte brood en ek sal slaai maak. En aangesien dit Pettie en Laki se troudag is, kan ons ’n ietsie op hulle geluk ook drink.” “En sy ma kán lekker brood bak,” sê ek grootbekkig. “You know?” vra Laki. Ek kyk na Boytjie; hy besef my penarie. “I brought her some of my mother’s bread, she must be able to bake bread when she is married,” sê hy nie baie oortuigend nie. Hy kyk my vas in die oë. Ek kry skaam en voel hoe my wange effens brand. Laki druk my hand. Dis goed, sê hy met ’n breë glimlag, ’n vrou moet brood kan bak. Sy ma bak altyd haar eie brood. “O, ék kan jou leer brood bak,” sê Kay. “Ag, dis maklik om brood te bak,” sê Lettie. “Brávo, you have many teachers!” lag Laki.
Laatmiddag staan ons almal om Kitty se graf. Die graf is net sand, met ’n nommer om aan te dui wie hier begrawe is. Ons gaan haal water in ’n bottel en Maggie rangskik die blomme daarin. Ons staan om die graf en kyk na die vrolike blomme; Laki staan langs Maggie. Ons kyk na die hopie sand asof ons enige oomblik Kitty se opstanding verwag. “We put the stone,” sê Laki. “Watse klip?” vra Maggie. “Die klip met die naam.” “Die grafsteen,” sê ek. “En wie gaan betaal? Die steen is baie expensive these days.” “Ek betaal,” sê Laki.
Maggie kyk hom ongelowig aan, kyk dan na my, kyk weer na Laki. Ek sien sy sluk hard. Kay sit haar arm om Maggie en gee haar ’n drukkie. “Is hy nou nie ’n goeie Griek nie?” vra sy laggend. Maggie knik. “Yes, he is a good Greek,” fluister sy sag. Met die groot sakdoek vee sy oor die oë, die mondhoeke. Sy snuit hard. In die bakkie terug huis toe praat Maggie met ons. Ek sit tussen haar en Laki. Sy wou nie saam met Boytjie ry nie, maar met ons. “Djulle moet ma trou,” sê sy terwyl sy strak voor haar kyk. Ek hou asem op, te bang om iets te sê. Dis ’n groot oomblik. “Djulle lyk goed vir mekaar.” Stilte. Ek is nog steeds te bang om iets te sê. “Nou dja, Pettie, djy is nou wit. Miskien as djy bruin bly, kry djy ’n slegte klong, wie weet. Bieterder dat djy ’n goeie wit man vat. Djulle moet ma trou. Al wat ek vra, is dat djulle my nie heeltemal moet vergiet nie.” Sy skep asem. “Ek mien, noudat djy wit is, Pettie.” Sy maak bietjie keel skoon, sê weer: “Dja, djulle moet ma trou, dis goed so.” Gaan ek nou ontplof of later? dink ek. Dis Laki wat praat. “Ons trou Sondag,” sê hy vir die soveelste keer. Emosies sonder naam druk my keel toe. My kop knik op en af, op en af, asof iemand die outomatiese knoppie gedruk het. Laki haal sy een hand van die stuurwiel af en druk my hand wat op my skoot lê. Ek kyk in die spieëltjie en sy oë lag met my. Maggie het vrede gemaak.
Laki gesels die aand ernstig met my. Die Dinsdag na ons troue begin hy in Potchefstroom werk. Die kontrak is geteken, dis finaal. Hy druk my vas. Hy is
lief vir my, sê hy. Ons is een, ons moet soos een lewe. Ja, sê ek, hy is reg, maar soms moet hy ook probeer verstaan hoe ek voel, dat ek nog lief is vir my bruin mense. Hulle sal altyd ’n deel van my bly. Hy knik en druk my weer, sê weer ons moet soos een lewe. “Will you try?” Ek sê ek belowe ek sal probeer dat ons soos een lewe. Laki filosofeer soos ’n ou Griek: Die huwelik sal beter mense van ons maak, juis omdat ons so beproef is. Ons ondervindings maak ons ryper, wyser. Ons is grootmense en ons moet dink en handel soos grootmense, nie kibbel soos kinders nie. As ons mekaar nou kan verstaan, sal ons mekaar altyd verstaan. Ek soen die lippe wat sulke wyse dinge kwytraak. “Gaan jy regtig ’n grafsteen op Kitty se graf sit?” Ja, verseker hy my, so gou as moontlik. Maggie moet net die bewoording vir hom gee. Ou mense worrie oor sulke goed, sê hy. Hy wil dit afgehandel hê voor ons trek. Ek sit in sy arms en my gedagtes gaan op loop. Al sal Kosta die enigste gas by ons troue wees, moet ek nogtans ’n rok koop, skoene koop, ’n afspraak maak by die haarkapper, ’n ruiker bestel, reël vir ’n fotograaf. Ek het nuwe nagklere nodig, Laki het ’n nuwe pak klere nodig. As ons die Maandag ná die kerktroue Potchefstroom toe trek, moet ek bokse kry en begin pak. Ek sal môre 24 uur kennis by die werk moet gee. Skielik is daar so baie om te doen in ’n baie kort tydjie. In die weke sedert die bybie se dood het ek en Laki nooit weer daaroor gepraat nie. Dis eenvoudig ’n hartseer wat bly hang het. Soos die keuse tussen Laki en my bruin mense. Ek besef nou dat my besluit om Laki te kies nie noodwendig beteken dat ek my mense moet afsny nie; die integrasie in die witmenslewe sal net gouer moet geskied, dis al. Ek sal my kinders leer om mense te respekteer ongeag die kleur van hul vel, en ek sal hulle vertel hul ouma was ’n bruin vrou, hul oupa ’n wit man.
Met my kop op Laki se skouer verlang ek na antie Smiley, na Koos en Katrien en kerslig. Die knop in my keel laat my effens hoes, trane kom in my oë. Sal ek hulle ooit weer sien? En die Strand, sal ek ooit weer teruggaan? Sal ek en Laki “happily ever after” leef, of sal die bruin-ding-wit-ding bly kop uitsteek? Ek wens iemand kan die antwoord in klip vir my skryf. Ek wens my mamma het nog gelewe, dan kon ek met haar oor al hierdie dinge gepraat het. Sy sou al die antwoorde geken het.
Hoofstuk 26
Die volgende oggend vroeg lui my telefoon by die werk. Ek is seker dis Laki. Hy wil natuurlik weet of ek my kennis ingegee het. “Hallo, Laki?” groet ek. “Hallo, Pettie,” sê ’n bekende stem. “Jammer om jou teleur te stel, maar dis Boytjie. Hoe gaan dit vanmôre? Is die kop miskien so ’n bietjie seer?” Hy lag effens. Ek het Laki se stem verwag, maar dis tog lekker om Boytjie se stem te hoor. Dit was ’n wonderlike gebaar van hom om almal na sy huis te nooi, en ek het hom nog nie behoorlik bedank nie. Hy het vir my ’n groot klip uit die pad gerol en ek moet dit nog vir hom sê. Hy vra of ons etenstyd êrens kan gesels. Ek stel voor ons gaan na die restaurant oorkant my werk. Stilte. “Boytjie?” “Pettie, ek is nie wit nie. Het jy vergeet?” My ore word warm. Ek het vergeet. “Ekskuus, Boytjie . . . ja, ek het vergeet. Dit kom daarvan as ’n mens kleurblind is,” probeer ek ’n grap maak. “Kom haal my net, dan kan ons besluit waarheen.” Die oggend kan nie gou genoeg omgaan nie. Boytjie het so geheimsinnig geklink. Waaroor wil hy so danig met my praat? Eenuur op die kop vat ek my handsak en hardloop. Boytjie wag reeds vir my oorkant die straat. Hy kyk my kant toe, maar klim nie uit nie. Hy dra ’n
donkerbril. Ek groet al van ver af. Hy groet skrams, skakel die enjin aan, en nog voor my deur behoorlik toe is, gee hy vet. By die tweede verkeerslig vang die ligte ons. Die motor kruip tot stilstand. Toe eers kyk hy na my en haal die donkerbril af. “Hallo weer, Pettie. Dis lekker om jou te sien.” Sy glimlag is breed, soos altyd. Die geel hemp lyk helder teen sy blas vel en sy bruin oë kyk my vriendelik aan. Ek sien vir antie Smiley in sy oë. “Ek is bly jy glimlag,” sê ek. “Vir ’n oomblik het ek gedog iets is nie pluis nie. Jy is so haastig daar weg.” Hy skud sy kop, kyk nog ’n maal na my en ry verder. “Jou hart is te goed, weet jy,” sê hy na ’n rukkie. “Ek wens dit was,” sê ek. “Hoekom dink jy het ek nie uitgeklim om die deur vir jou oop te maak nie? Hoekom is ek so haastig daar weg?” “Ja, ek wonder. Jaag jy miskien die one o’clock express?” Weer skud hy sy kop. Ek weet nie mooi wat aangaan nie en besluit om liewer niks te sê nie. Ons draai in by ’n parkie langs ’n dam. Hy parkeer die motor en ons klim uit. Die park is betreklik stil en ons gaan sit op ’n bankie onder ’n groot boom. Die ganse skree aan die oorkant en die son blink op die water. Boytjie maak ’n papiersak oop. “Vrugtesap,” sê hy en gee vir my ’n plastiekbotteltjie. Ons suig aan ons strooitjies en ek voel die lekker warm son op my vel. “Is jy nie bang nie?” vra hy. “Hoekom? Moet ek bang wees?” Ek lag. “Jy hét nogal soos ’n gangster gelyk
met die donkerbril op, maar nou –” “Pettie, jy is wit, ek is bruin, ons sit hier saam.” “Ons gesels mos net!” sê ek effens verontwaardig, maar hy lag vir my. “Dis reg, ons gesels net, maar weet die law dat ons net gesels?” Ek skrik nou. “Probeer jy my bang maak?” Ek wil opstaan, maar hy vang my arm en trek my terug. “Jammer, ek probeer jou nie bang maak nie. Pettie, ek is hier omdat . . .” Hy aarsel, lek oor sy lippe. “Ek het my ma vertel van jou, van die wit papiere en van Laki. Sy vra ek moet tog net een keer weer met jou praat voordat jy finaal besluit om met Laki te trou.” My nekhare rys. Ek is nou behoorlik vies. Sy ma dink seker ek is ’n verraaier. Dit voel skielik vir my belangrik om ’n goeie beeld by sy ma te hê, waarom weet ek nie. “Ek het nie die kar se deur vir jou oopgemaak nie omdat ek bang was iemand sien ons. Jy is nou wit en die mense moenie onder mekaar praat en sê jy verkeer met die Kleurlinge nie.” My gemoed kalmeer ’n bietjie. “Boytjie, ons is vriende –” begin ek. “Dankie dat jy my as ’n vriend beskou, Pettie,” val hy my in die rede, “maar as ons vriende van ander kleure mag hê, hoekom wou die polisie jou en Laki nie met rus laat nie? Julle kon mos gesê het julle is net vriende.” “Wat probeer jy eintlik sê, Boytjie? Moet ons nie meer vriende wees nie? Is dít waaroor jou geselsie gaan? Ek hou tog baie van jou,” sê ek en voeg dan haastig by: “En van antie Smiley.” Ons kyk mekaar in die oë en ons glimlag. Ek voel skielik ongemaklik en kyk vinnig weg. Boytjie druk weer sy hand in die papiersak en haal ’n broodrolletjie uit. Hy deel
dit plegtig in twee en gee vir my die helfte. Ek gooi ’n stukkie vir die ganse net om hulle te sien nader waggel. “Pettie,” hervat hy, “my ma het gevra ek moet met jou praat.” Jy het dit al gesê, dink ek. En eintlik wil ek nie hoor wat antie Smiley nou van my dink nie. Ek is bang dit gaan seermaak. “My ma hou baie van jou. Jy het ’n groot indruk op haar gemaak, ook met dit wat jy vir Katrien gedoen het. Sy het eintlik gedink ons twee . . . jy weet. Maar nou ja. Sy het net gesê: ‘Boytjie, praat met haar, sy moet baie seker wees.’ Nou is ek hier.” Hy sug en vat ’n happie van die brood. “Wat dink jou ma? Dink sy ek is nie seker van Laki nie, of dat ek nie seker is van die witpapiere nie?” “Ek dink albei. As jy nie nou met Laki trou nie, kan jy nog altyd weer kies; partykeer is ’n mens se tweede keuse die beste. Maar as jy eers getroud is, as die kinders daar is, dan is daar geen omdraaikans nie. Jy moet net seker wees.” “Ek dink ek is seker,” sê ek en weet ek klink verspot. “Julle het so gou besluit om te trou. Wil jy nie nog ’n bietjie oor alles nadink nie?” “Ek en Laki het gepraat. Hy het gesê hy is seker.” Sy arm rus op die agterkant van die bank en ek voel hoe sy hand saggies aan my skouer vat. Ek laat hom begaan. “Jy is so lief vir jou bruin mense, Pettie, omdat jy so deel van hulle is. Jou hart, jou liefde, jou alles is verstrengel met die bruin mens. Maar sal jy oor ’n paar jaar nog so lief en partydig vir die bruin mens wees onder Laki se invloed?” Nou wil ek huil. “Waarom is ons bruin mense so behep met kleur!” sê ek ergerlik.
Stilte. Ek kry skaam vir my woorde. Trane brand in my oë en ek draai my kop weg. Weg van Boytjie se beskuldigende oë. Hy sit sy hand onder my ken en draai my gesig na hom toe. Sy oë is vol deernis, sy aanraking sag en warm. Vir ’n oomblik dink ek hy gaan sy arms om my sit om my te troos. “Moenie vir my kwaad wees nie, Pettie. Ek en my ma wil net nie hê jy moet ’n fout maak nie, dis al. Ons is lief vir jou.” Wat beteken dit, wonder ek: ons is lief vir jou? Ek kyk hom vas in die oë. Ek vat aan sy arm en sy hand omvou myne. “Dit voel vir my my hele lewe lank sê ek koebaai vir mense, Boytjie. My ma, my vriendin Lorrain, my vriend Jamie, Kitty, my bybie. En nou vir jou en antie Smiley. Dis asof die lewe my nie goed genoeg reken om bemin te word nie. Ek is te bang om Laki ook prys te gee. Sê nou ek kry nooit weer iemand wat my so liefhet nie?” ’n Traan loop oor my wang. Wat is dit aan hierdie man dat ek my hart so kan uitstort teenoor hom? Hy is bruin, dink ek, hy verstaan. “Ék is lief vir jou,” sê hy onverwags. “As jy my net ’n kans sal gee, sal ek vir jou wys dat ek jou net so baie liefde kan gee soos Laki, en meer. Van ons eerste ontmoeting af het ek aan jou bly dink.” Hy skep asem, maar ek sê niks. Ek is te bang om te praat, bang my moed begewe my, bang die trane gaan weer rol. Hoekom moet hy nóú juis al hierdie dinge sê? “Gert het gesê: dis Lettie en dis Pettie, onthou jy? Ek dink ek het toe al ’n bietjie op jou verlief geraak.” Ek vang sy oog en ons lag, maar sag, soos twee mense wat ’n intieme grappie deel. Ek laat sak my kop, ek kry ’n bietjie skaam vir sy liefdesverklaring. “Dis te laat,” sê ek en haal my hand uit syne. Ek skuif ’n bietjie weg van hom af op die bank.
Wat sal Laki sê as hy weet van hierdie gesprek? Wat sal hy sê as hy ons sien? Ek staan op en loop na die kant van die water. Die ganse kom aangeswem, maar my brood is op. Boytjie kom staan langs my. Hy wil nog praat, maar ek maak hom stil. “Dis genoeg,” sê ek. “Dis genoeg.”
Hoofstuk 27
Dis laataand. In my flat is dit stil, maar buite toet karre, lag mense, skree sirenes. My kop lê op die kussing, gereed om te slaap, maar buite begin Hillbrow se naglewe nou eers. Ek het ’n woelige dag agter die rug. Eers het ek kennis gegee, toe was dit Boytjie se liefdesverklaring en toe het die werksmense vir my ’n afskeidspartytjie gegee, met blomme, geskenke en sjampanje. Ná werk het ek en twee kollegas gaan uiteet. Ek het vir Laki gebel, maar hy was nie baie ingenome daarmee nie. Het ek my verbeel of het hy ’n bietjie jaloers geklink? My kollegas het my verseker dat Griekse mans baie besitlik is op hul vrouens. “Maar ek wil nie iemand se besitting wees nie,” het ek geprotesteer. “Te laat!” het hulle gelag. Motors jaag verby met bande wat om draaie skreeu. Onder in die straat hardloop iemand met stewels wat klik-klak op die harde sypaadjie. Dié plek kan nie tot rus kom nie. My oë volg die skadu’s teen die muur. Ek kan ook nie tot rus kom nie. Ek het destyds, toe ek nog op universiteit was, gesê ek wil ook vry wees om te kom en te gaan soos die wit man. Nou is ek vry. Maar ek besef nou eers: om vry te wees is relatief. Daar is so baie dinge wat ’n mens gebonde hou dat jy nooit werklik vry kan wees nie. Die bruin mense dink hulle sal vry wees as hulle dieselfde regte as die wit man het. Die wit man dink hy sal vry wees as hy ryk is. Ek dink aan antie Broodjie. Sy is so genoem omdat sy en haar gesin omtrent aan die lewe gebly het van die daaglikse broodjie wat sy van haar miesies gekry het. Sy het ses kinders gehad en die twee jongstes was altyd sieklik. Haar man het die askar bestuur. Saans laat het antie Broodjie nog in die lang gras en in die vullisblikke gesoek vir leë bottels, vir enigiets van waarde, vir haar. As Dadda einde van die maand ietsie ekstra huis toe bring, dan het ons mamma
vetkoek gebak en ’n baksel vir antie Broodjie gestuur. Of sy brei vir die sieklike kind ’n trui van oorskietwol wat ’n miesies vir haar gegee het, al het haar eie kinders dit ook nodig gehad. Ek was ’n paar keer in antie Broodjie se huis saam met Kay as ons die vetkoek oorneem. ’n Mens kon van haar vloer af eet so skoon was dit, ondanks die klomp kinders. Sy en oompie Mart het in die kombuis op die vloer geslaap en die kinders het die twee bokskamertjies gedeel. Ek kan nou nog die uitgeteerde kinders voor my sien. Ek kry skaam as ek dink hoe maklik Laki die kloof tussen wit en bruin oorbrug het, en hoe ek sukkel. Hy kon met ’n mooi jong Griekse meisie getrou het. Heelwat pa’s was bereid om hul hande diep in hul sakke te steek vir hom. Maar nee, hy kies my, Pattie Peters, sonder om ’n oog te knip. Ek dink aan Boytjie Swarts. Dankie vir jou liefde. Dankie vir jou vriendskap. Ek is jammer dat jy nie kan aanvaar dat ek Laki bo jou verkies nie. As ek en Laki nooit ontmoet het nie, kon dinge anders gewees het, wie weet . . . Ek voel weer sy warm, sagte aanraking. Jy verdien iemand beter as ek, Boytjie. Vergewe my as jy dink ek is ’n verraaier, het ek vir hom gesê, vra vir antie Smiley om my ook te vergewe. Maar as dit jou sal troos: ek voel tog skuldig. Ek besef nou: dis nie die wit man wat die bruin man minderwaardig laat voel nie, en dis nie die wit man wat die bruin man sy eer wil ontneem nie. Dis bloot die bruin vel wat voel hy is die wit man nie waardig nie. Ek is die een wat altyd terughou, ek is die een wat nie Laki se onvoorwaardelike liefde kan aanvaar nie, ek is die een wat sukkel. As ek Laki was, besluit ek, het ek my lankal uitgeskop en gesê gaan terug na jou hool, jy sit daar omdat jy daar wil wees. Ek snuit my neus, die trane het opgedroog. Ek was nog al die tyd so besig om myself te bejammer dat ek blind was vir Laki se goedheid. Stewie het gesê die wit man het sy hemp van sy eie lyf afgeskeur om hom te verbind. Hy het die bruin man uit sy waterkan laat drink, hom opgelaai en hospitaal toe geneem.
Wat presies het die wit man gesien toe Stewie daar lê, hulpeloos en vol bloed? ’n Bruin mens? Nee. Hy het ’n mens gesien. ’n Mens wat hulp nodig het. “Ag, Heretjie,” prewel ek, “help my om my hemp om iemand se wonde te draai, ongeag sy kleur. Laat ek begin by Laki.” Hy het sy hemp vir my uitgetrek, maar ek het dit geweier. Nee, ek wil liewer doodbloei. Doodbloei aan dinge van die verlede, doodbloei aan selfbejammering en verwyte. “Help my, Here, om die verlede te laat waar dit hoort: in die verlede.” Het God ag geslaan op my woorde? Daar kom ’n vrede in my hart wat my soos ’n groot, sagte kombers omvou. Vrede met die verlede, vrede met die hede. Ek kan nie langer teen die prikkels bly skop nie. Dis nou genoeg. Genoeg. My keuse is gemaak. My liewe Laki, my Griekse held, ek sal jou toevou in my hemp, jou laat drink van my waterkan en my verheug in jou goedheid, jou liefde, jou barmhartigheid. Goddank vir jou, Laki Pappasani. Ek het jou lief.
Hoofstuk 28
Die volgende oggend vroeg klop ek aan Laki se deur, maar dis nie vroeg genoeg nie, hy en Kosta is reeds weg. Vandag gaan ek my trourok koop en ek sal Laki sê daarvan, maar hom dit nie wys nie. Hy moet dit vir die eerste keer sien as ek hom voor die kerk se deur ontmoet. Hy sal vir my wag, ’n ruiker in sy hande. Dan sal hy my met ’n soen groet en vir my die ruiker gee. Ek dink aan die slaapklere, onderklere, skoene en dies meer wat ek ook nog moet koop. Ek sluit Laki se flat oop. Sy hemde hang netjies een-een oor hangers in sy groot klerekas en ek soek na die grootte van sy kraag. Hy het my ’n goeie paar rand in die hand gestop en gesê: “Buy something for you and something for me.” Miskien kan ek vir hom ’n hemp koop van dieselfde kleur as my rok, en ’n mooi das daarby. Hy het sokkies ook nodig, merk ek op. Die pak klere moet hy maar self koop. Onder die blok flats is haarkappers; die eienaar bly ook in ons blok. Sy sê ek kan Saterdag vroeg inkom en Sondagoggend sal sy by my kom inloer net om my hare weer te kam. “Dankie,” sê ek verlig, “dis baie gaaf van jou.” Ek praat van ’n ruiker. Sy gee my die naam van ’n bloemiste in die stad. Hulle maak pragtige ruikers en hulle is baie redelik. Ek besluit om te loop, ek wil by al wat ’n klerewinkel is ingaan op soek na my spesiale rok. By die bloemiste kies ek klein wit rosies met gipskruid. My rok gaan nie wit wees nie, maar Laki het gesê ek moet asseblief wit blomme kies. So gesê, so gedaan. Hy het ook gevra vir “a flower for my suit, and for Kosta too, but must be white”. ’n Klein wit angelier vir elkeen sal goed lyk. Op die ingewing van die oomblik besluit ek op ’n paar blommetjies vir my hare, ek gaan mos nie ’n sluier dra nie. My hare gaan ek agter vasmaak en ’n paar
angeliertjies hier en daar ingesteek sal mooi lyk. “Kom haal dit Saterdag, net voor eenuur,” sê die vrou. Ek loop in by Shelley Winkels. Pas ’n paar rokke aan, besluit dan op een. Dis roomkleur en hang tot op my tone. Dis van ligte materiaal en die moue hang wyd en sag. Die hals is laag gesny en ek weet Laki se hangertjie sal mooi lyk daarby. Ek koop ’n paar oorbelle wat naastenby daarby pas. By die vierde skoenwinkel waar ek instap, kry ek ’n paar skoene wat perfek by my rok pas. Vir Laki koop ek ’n roomkleurige hemp met valletjies en swart knopies en besluit om liewer ’n fluweelstrikdas te koop, die ander dasse is nie deftig genoeg nie. Ek koop twee van elk, Kosta moet dieselfde lyk. Volgende op my lys is onderklere en slaapklere en Laki se sokkies. Uiteindelik het ek alles. Die heuwel is te steil vir die terugloop huis toe. Ek haal ’n bus en is dankbaar vir die blaaskans toe my boude die sitplek vat. My hande klem die pakkies styf vas. Ek kyk na die mense om my. As hulle maar weet wat ek in my pakkies het. My trourok! Die trourok waaroor Laki al so lank neul. Uiteindelik. Tuis bêre ek alles, maar ek haal dit nie uit die sakke nie. Laki mag dit nie nou al sien nie. Ek moet dit nog eers vir Maggie ook gaan wys. Ek neem Laki se klere na sy flat toe. Voor ek die deur agter my kan toemaak, lui die foon. “Pettie?” sê-vra ’n sagte stem. “Stewie! Dis goed om jou stem te hoor, loop jy al rond?” “Nee, ek sit innie wheelchair. Dis nog baie seer, ma ek wou jou bel. Miskien kan ek hys toe gaan hierie weekend. Ek kan nog nie veel vir myself doen nie en ekke . . .” Hy aarsel. “Stewie?” vra ek. “Wel, ek sal iemand nodig hê om na my om te sien, jy verstaan? Net virrie short while tot ek weer op die bien is, en ekke dink toe . . . my sussie is naby en is al een mettie flat. As jy net ’n bord kos vir my elke dag kan gee en so ’n bietjie washing doen, dan is dit olraait. My werk betaal my nog, ek sal jou ietsie gee as . . .”
My hart bloei vir my ouboet. Gee my ’n slukkie van jou waterkan, dis al wat hy vra. “Ai, Stewie, jy vra so ’n kleinigheid, maar Sondag trou ek en Dinsdag sit ek in Potchefstroom.” “Jy trou?” vra hy sag en ek kan die ongeloof in sy stem hoor. Ek het hom al geskryf van die witpapiere. Ek vertel hom nou van Laki. “Ma sallie wit man goed wies vir jou, my sussie?” “Ja, hy sal. Party wit mans is goed, Stewie. Onthou jy nog die wit man wat sy hemp vir jou uitgetrek het? Was hy nie goed nie?” “Pettie, daai man is baie goed. The best, sê ek jou. Hy het my in die hospital kom visit. Twee maal.” “Laki is ook die beste, my broer.” Hy wens ons geluk toe, sê ek moenie worrie nie, hy sal regkom. Die mense in wie se jaart hy bly, sal ’n bietjie sorg. Ek belowe om eers met Laki te praat, te hoor wat hy sê. Ek sê nie nou nee nie. Potchefstroom is nie die ander kant van die wêreld nie. “Nee,” sê Stewie, “julle is op honeymoon. Skryf vir my, bel my. Ek is lief vir jou.” Hy sê ek en Laki moet mooi loop op die pad. Koebaai. Koebaai. Ek weet nie hoekom hy juis na my toe wil kom nie, hy het altyd gesê die mense in die huis is goed vir hom. Miskien word ’n mens gouer gesond tussen jou eie mense, die mense wat lief is vir jou. Ek sal tog met Laki praat, besluit ek. Wat hy ook al sê, sal my geval.
“Dis goed so, djy het goed gakies,” sê Maggie toe ek haar als wys, “ma wat dan vannie kop? Djy moet iets oppie kop sit.” “Ag, ’n stringetjie vars blomme sal ook mooi lyk. Ek wil regtig nie ’n veil hê
nie.” “Ma ’n bruid moet mos ’n veil hê, dis tradition,” hou sy vol. “Maar ek het mos nie ’n traditional trourok nie,” sê ek, “hoe sal ’n veil nou daarby lyk? Dit sal nie pas nie. ’n Regte trourok en veil is baie duur, en dit net vir een keer se dra. Ek het nie geld daarvoor nie.” “That’s true,” stem die antie saam. “Laki was vanoggend hierso,” sê sy. “Hy wou weet wat ek op Kitty se graf wil hê. Die man dink ver vooruit, wiet djy. Hy het ’n oop boek gakies as ’n grafsteen. Aan die een kant is Kitty se naam en goete, en aan die annerkant kom myne. Wanneer ek nou tot sterwe kom, nè? Dat ’n man nou aan so iets sal dink!” Nou toe nou, sê ek kopskuddend. Mevrou Soes loer in en oe en aa oor die klere en toe oe en aa sy oor die oopboekgrafsteen. “Nei, die wit man ken sy storie. Pettie kan ma trou, die wit man sal vir haar sorre,” praat sy soos ’n wyse ou uil. “Wat het Maggie toe besluit moet die bewoording wees?” “Nie te veel woore nie; dit kos baie vir die lettering. Net haar naam, wanneer sy gebore is, wanneer sy dood is, en rest in peace. Dis al.” Sy kyk na my vir goedkeuring. “Dis genoeg,” sê ek. “Mens moenie te veel sê nie, dit lyk nie sincere nie.” “Dja, so het ek ok gadink. Te veel woore lyk nie sincere nie.” “Ek moet spore maak, sê groete vir Dorie.” Ek onthou die R5 wat ek oorhet en steek dit in Maggie se hand. “Koop ’n chocolate.” Terug by die huis is ek pootuit. Ek sit vleis en aartappels in die oond en klim dan in ’n lekker warm bad. Ek lê met my kop agtertoe, my oë toe. Môre moet ek gaan bokse soek en begin
inpak. Laki het gesê hy sal reël vir die fotograaf. Môreoggend trou ons eers in die hof. Ek sal my pienk pakkie aantrek, die hoftrouery is tog net ’n formaliteit. Ek sal my kamera saamvat en vra iemand moet ’n kiekie neem. Ons moet al nege-uur voor die magistraat wees. Kosta en Peter sal die getuies wees. Agterna vier ons dit met ’n koppie koffie en dan gaan almal terug werk toe. Dit klink snaaks. It’s a case of: Veels geluk, smile vir die kamera, dankie, koebaai. Gaan nou aan met jou werk. Ek ruik die vleis en vlieg uit die bad. Teen sewe-uur het die mans nog nie opgedaag nie. Ek klop aan Laki se deur, die lig brand binne. Kosta maak oop en hy nooi my in. Laki se vriend Peter is ook daar. Dis die eerste keer dat ek hom weer sien sedert ons verlowing. Ek vra uit na sy nooi, Irene. “She go back to Greece,” sê hy skouerophalend. Kosta wys na homself. “I go Greece,” sê hy. Ek verstaan nie. Peter sê Kosta het nog net ’n paar weke oor, dan verval sy permit. Hy sal moet terug, tensy Laki aan ’n plan kan dink. Dit sal ’n groot jammerte wees, dink ek. Kosta wil so graag in Suid-Afrika bly. Hy en Peter speel skaak. Langs die skaakbord staan twee drankies. “Where is Laki?” vra ek. “Laki come now,” sê Kosta en wys na die muurhorlosie. Peter sê Laki het gaan geld kollekteer vir ’n werkie wat hulle gedoen het, dis nie te ver nie, hy behoort nou enige oomblik hier te wees. Kosta vryf sy duim en wysvinger. “Chrímata,” sê hy. “Money,” sê ek. Ek gaan sit langs Kosta op die rusbank. Hoekom gaan Laki so laat geld kollekteer? wonder ek hardop. Kon hy dit nie laat oorstaan tot môre nie?
Peter lag, vertaal dan my vraag in Grieks. Kosta lag en sit sy voorvinger teen sy lippe. Hy kyk in Peter se rigting en fluister: sjuut. Wat nou? wil ek weet. Laki het geld gaan haal om môre vir jou ’n mooi geskenk te koop, vir julle troue, bely Peter. Hy het reeds die geskenk gekies en wil dit môre vroeg gaan haal. Dis ’n surprise. Wat het hy gekoop? wil ek gretig weet. Die mans weet nie, maar hulle reken dit moet iets duur wees, daarom het hy geld nodig. Peter laat my belowe om niks vir Laki te sê nie, maar ek dood van nuuskierigheid. Kosta stamp aan my met sy elmboog. “Tomorrow,” sê hy en beduie dat iemand ’n ring aan my vinger gaan steek. Ek knik kamma sedig kop. Ja, ek weet, ek weet. “But are you ready?” vra Peter met ’n groot glimlag. Kan ek nog kop uittrek? wil ek weet. Die mans lag. “Not a chance,” sê Peter, “you put the rope already.” Iemand klop sag aan die deur. ’n Swart man staan op die drumpel. Kosta herken die man, maak die deur heeltemal oop. “Good evening, baas Kosta,” groet die man. In sy een hand hou hy ’n verwaarloosde keppie vas. Die ander hand lig hy omhoog, amper asof hy wil salueer. “Moses! Good evening!” groet Kosta hom vriendelik. Die man kyk na my, groet, salueer weer. Hy verskuif sy gewig van die een voet na die ander. Hy lyk baie senuagtig. “Baas Laki come now,” sê Kosta en tik-tik op sy armhorlosie.
Moses skud sy kop effens. Sy oë lyk verskrik toe hy na my kyk. “Does the madam speak English?” Peter staan nou ook nader. “What you want?” vra hy ’n bietjie bars. In ’n bewerige stem vertel Moses dat ’n motor oor ’n rooi verkeerslig gejaag het. Hy het Laki se kant van die bakkie getref. Hulle was saam in die bakkie, maar hy wat Moses is, het niks oorgekom nie. Hy het geloop om ons te kom vertel. Laki lê in die hospitaal. Binne ’n minuut sit ons almal ingeryg in Peter se kar. Die hospitaal is naby die flats. Ek kry weer my stem terug ná die eerste skok en vra of Laki baie seergekry het. “Baas Laki talk to me. He tell me to bring baas Kosta.” Dankie tog, hy lewe. Ek sien in my geestesoog hoe ons Sondag voor die pappás staan: Laki met ’n kruk onder elke arm, verband om die kop, miskien nog ’n blouoog ook. Dit sal nou vir jou ’n troufoto wees! Moses beduie waar ons moet indraai. “Casualty,” sê hy. Peter parkeer die kar so naby die ingang as moontlik; Moses bly sit in die kar. Buite begin dit reën, maar saggies. Ons hardloop die Ongevalle-eenheid binne. Dis ’n miernes van mense. Peter keer ’n verpleegster voor. “A man was in an accident, his name is Laki Pappasani?” Die verpleegster kyk ’n bietjie rond en wys dan na ’n hoek met toegetrekte gordyne. Ons trek haastig die gordyne weg en gaan staan voor die bed, ’n bietjie uitasem. Versigtig sit ek my hand op Laki se voorkop, streel sag oor die deurmekaar hare. Die laken is tot onder sy ken opgetrek. Hy lyk nes ek hom al in die oggend gesien het. Rustig. Dis met ’n gevoel van dankbaarheid dat ek sien daar is geen pypies, geen drade en goeters soos met Stewie nie. Ek voel nie meer heeltemal so ontsteld nie. Die mans het ook stil geword, hul gejaagde asemhalings het bedaar. Met bewerige vingertoppe vee ek sag oor sy breë voorkop, buk dan effens
vorentoe, my gemoed in ’n warboel. “Ek het die rok gekoop,” fluister ek. Die gordyn word wyd oopgemaak en ’n vrou in ’n wit jas, lêer in die hand en stetoskoop om die nek, kom nader. Ek lees die naamplaatjie op haar jas: Dr Ioánnou. Dis ironies, dink ek. Sy is Grieks. “Doctor,” vra ek en ek hoor dat my stem effens bewe, “how badly injured is he?” Ek sien die deernis in haar oë en voel die sagtheid van haar aanraking toe sy haar hand na my uitsteek. Skielik is woorde oorbodig. My God! dink ek, hy is dood!
Die dae na Laki se dood voel soos jare. Jare van verslaenheid, jare van vrae sonder antwoorde: Hoekom hy? Hoekom ek? Hoekom nou? Ek dink terug aan die uitgestrekte man onder die boom die aand van my mamma se dood, en die tiekie wat bly vassit. Die kringloop is voltooi, dink ek. Hier is nog ’n hospitaal, nog ’n geliefde en nog ’n tiekie wat in my kop bly vassteek. Sê nou Laki het nie vir my die geld vir die geskenk gaan haal nie, dan sou dit nooit gebeur het nie. Dis my skuld, huil ek diep binne. Maar ek weet ook nie hoe ek dit kon verhoed het nie. My gedagtes bly by die hospitaal, by die stil figuur op die bed. Die dokter praat, maar ons drie staan asof ons versteen is. Sy kyk Kosta stip in die oë, praat Grieks met hom. Verduidelik in ’n sagte stem, kyk dan weer na my, na Peter. Iemand snik. Peter se greep op my arm verslap. Hy draai na Kosta om hom te troos. My gemoed is verward, my binnekant bewe. Ek vat weer aan die mooi voorkop. Vir die laaste keer. Ek het vanoggend aan jou deur geklop om vir jou te sê ek is lief vir jou, maar jy was nie daar nie. Nou lê jy hier, maar jy hoor my nie. Ek is lief vir jou, so baie
lief vir jou. Jy het nooit gevoel hoe ek my hemp om jou draai nie, nooit die slukkie water uit my kannetjie gedrink nie. Die oë wat so mooi kon lag, is nou toe in ’n gesig sonder uitdrukking. ’n Bewerasie ruk deur my lyf. My gedagtes vloei deurmekaar. God is liefde, het jy gesê. Mag sy liefde jou nou omvou. Jy lyk nog net so mooi soos altyd. Niks kan jou beroof van jou skyn nie. My diamant. My stukkie goud. Chrisó móé. “Go home,” sê die dokter sag. “You need to gather your strength for the days that lie ahead.” Met sy donker hare uitgesprei oor die wit kussing en ’n liggaam wat roerloos lê, laat ons hom agter. Buite spoel die reën oor my en ek is dankbaar. Niemand sal my trane sien nie. Ons moet sy ouers laat weet. Vriende laat weet. En die construction company laat weet hy sal nie môre opdaag vir werk nie. Ek moet Stewie bel, vir hom sê ek is lief vir hom. Ek wil na Kay en Dorie en Maggie gaan, vir hulle sê ek is lief vir hulle. Met my laaste terugblik het ek Laki belowe: môre sal ek ’n kersie vir jou gaan opsteek. Ek dink skielik aan my trourok, sy strikdas, als nog toegedraai in papier. Dis om van te huil. Vyf dae later staan ek op die drumpel van die kerk. Op hierdie plek het ek Grieks-Ortodoks geword, het ek en Laki ons troudatum bevestig, het ons hande gehou by iemand anders se troue. Ek en my dadda is die laastes wat die kerk instap. Hy het dadelik gekom toe ek laat weet het van die ongeluk. Ons ken die pyn van dood, van verwydering, van vervreemding. Van afskeid neem en koebaai sê. Eers Mamma. En nou Laki. Ons beweeg vorentoe, voetjie vir voetjie. Al hoe nader aan die blink boks.
Om my nek dra ek sy hangertjie. Tonele van ons verlowing flits voor my geestesoog verby. Soete herinneringe. Ek glimlag wrang. Daar is nie te veel soete herinneringe nie, maar dié wat daar is, sal ek vir altyd koester. Dadda hou my hand styf vas tussen sy twee groot hande en druk dit saggies teen sy bors. Sy trane val op ons verstrengelde vingers. In my ander hand hou ek ’n kersie vas. ’n Bietjie was drup oor my hand, maar ek voel nie die brand nie. Ek kyk na die mense. Maggie, Kay, Dorie, Lettie, Kosta, Peter. In die rye agter hulle sit antie Smiley en Boytjie, vriende en kennisse van Laki wat ek by die Griekse troue ontmoet het, ook Jossie en Sarel, Laki se baas van die construction company, Moses, my kollegas. Ons kon nie saamkom vir ’n troue nie, maar in die aangesig van die dood sit ons almal saamgesnoer. Swart pêrels en wit pêrels. Almal God se pêrels. My trourok vee sag teen my bene. Die nuwe skoene gly-gly oor die rooi tapyt en voetjie vir voetjie beweeg ons vorentoe, al nader aan die blink boks. Maggie en Kay se woorde weerklink in my ore. “It’s end of August again,” het Maggie gesê. “Ons mamma is ook in Augustus dood,” het Kay gesê. “Veertien djaar gelede, and she was only forty eight.” “En hy, only twenty eight.”
Ek wou vergeet, maar hulle het my aanhou onthou. Later het dit nie meer saakgemaak nie. Die pyn eindig hier. Vandag. Dadda los my hand, soen my en gaan sit heel voor, op die punt van die bank. Die pappás knik vir ons; ek weet sonder sy toestemming kon bruin, wit en swart nie vandag hier bymekaarkom nie. Dis ’n vergunning waaroor ek dankbaar is.
Hy knik weer, asof hy wil sê: dis tyd om te begin. Hy begin sing en swaai die kannetjie wierook aan die ketting heen en weer, heen en weer. Ek ruik die soet geur van die wierook. Ek klim die trappie. Al hoe nader aan die blink boks. Hy lê roerloos in sy roomkleurige hemp met die valletjies en die swart knopies, die fluweelstrikdas om sy nek, sy hare netjies gekam. So rustig soos hy gelewe het. Selfs die dood kan hom nie van sy glans ontneem nie. Snikke ruk deur my bors.
Aan het einde herkende Johannes den duisteren Dood. “Ik ken u! Ik ken u!” zeide Johannes.
Die kersie maak ek staan in die houertjie bo die kis, ons ringe plaas ek langs sy kop. Ek buk vorentoe, fluister sag: “Wanneer jy wakker word, my diamant, dink aan my.” Ek draai om na die mense. Almal se oë is op my. Die kringloop is voltooi. Hy staan op en tree nader, sy oë sag en vol begrip. Die grysaard, die digter, die eggenoot van my ma. Hy glimlag en sy oë blink. Hy kom staan voor my met ’n uitgestrekte arm. “Vat my hand,” sê hy. “Dankie, Dadda,” sê ek.
TÉLOS
Kolofonbladsy Kwytskelding Truth is stranger than fiction, and sometimes it is pure fiction.
Oor die boek
Opsomming
Toe Pattie Peters agt jaar oud is, sterf haar ma. En ’n paar dae later gee haar pa haar weg. Om by haar anties in die Strand te gaan bly. “Dis bieter so,” hoor sy hom sê. “’n Kind het ’n ma nodig en sy is nog klein. Kitty en Maggie sal sorre virrie kind, daaroor hoef ek my nie te worrie nie.” So begin Pattie se afskeid aan haar pa, en aan die Kaap. Uiteindelik beland sy in die Goudstad – by haar sus Dorie in mevrou Soes se losieshuis. Dies hier dat sy Laki Pappasani ontmoet, ’n Griek van Sparta, ambagsman van beroep. Maar dis die sixties, en sy, Pattie Peters, klerk van beroep, is ’n bruin meisie van die Strand.
Oor die skrywer
PAT STAMATÉLOS is in Goodwood in die Kaap gebore. Ná die dood van haar ma gaan woon sy op agtjarige ouderdom by haar tannies in die Strand. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Hottentots-Holland, en drie jaar later verhuis sy na Johannesburg. Deesdae woon Pat in Randfontein, naby Krugersdorp. Haar debuutroman, Kroes, wat in 2005 verskyn het, is baie goed ontvang (dit was o.m. gekies vir Homebru 2006), en verkoop steeds uitstekend. Haar tweede roman is getiteld Die val van die dice, en was op die kortlys vir die ATKV-prosaprys in 2008. Die portier het in 2009 verskyn en Vier begrafnisse en ’n troue in 2010.
Lof
Lof vir Kroes
“ ’n Unieke en boeiende leeservaring wat lesers nie moet misloop nie.” LOUISE VILJOEN, Beeld
“Dis ’n boek vir oud en jonk . . . die eenvoud van die verhaallyn is bedrieglik.” GUNTHER PAKENDORF, Rapport
“ ’n Verhaal wat ’n blywende indruk laat en hopelik wyd gelees sal word.” STEWARD VAN WYK, Die Burger
“Kroes [is] ’n voortreflike werk.” MADELEINE ROUX, Volksblad
“Vir enigeen wat nog twyfel oor die onreg wat apartheidswette mense aangedoen het, is Kroes verpligte leesstof.” GEORGE WEIDEMAN, Taalgenoot
“ ’n Menslike en boeiende verhaal oor versoening, aanvaarding, kleur en die grense van identiteit.” ELIZE PARKER, Leef
Lof vir Die val van die dice
“Dit is boeiende leesstof. Maar hou daardie snesies byderhand; jy sal dit nodig kry.” – HAIDEE MULLER, Huisgenoot
“Die teks is uitstekend – onopgesmuk en sonder ’n verromantisering van die werklikheid. Diegene wat self huishoudelike geweld en emosionele afknouery moes ervaar, sal hul eie noodkrete en verwyte hierin hoor.” – SOPHIA VAN TAAK, Die Burger
“Stamatélos se tweede roman [is] ’n ewe meesleurende verhaal wat die leser, soos haar debuut, moeilik sal neersit. Met die talle gebeurtenisse en terugflitse het die vertelling ’n vaart wat dit ’n boeiende leeservaring maak.” – JC KANNEMEYER, Rapport
“ . . .’n vertelling wat ’n mens deurgaans boei vanweë die skrywer se vermoë om op volkome pretensielose wyse konkreet-beeldende situasies te skep, oortuigende karakters te teken en sterk dialoog te skryf . . . Die val van die dice is in alle opsigte die gelyke en op sommige punte selfs beter as sy voorganger Kroes.” – LOUISE VILJOEN, Beeld
“Elke man en vrou wat al ooit iemand liefgekry het, moet hierdie boek lees.” – Taalgenoot
Lof vir Die portier
“Stamatélos skryf in ’n helder, toeganklike styl. Heel dikwels is daar voorbeelde van oorspronklike segging. Die dialoog is natuurlik en vorm deel van die karakterbeelding . . . Die portier Max gaan diep in die harte van duisende lesers kruip.” – STOFFEL CILLIERS, Beeld
“Vol prikkies humor.” – Lééf
“Kostelike maar simpatieke karakteruitbeeldings, ’n vlot skryfstyl en die vinnige ontplooiing van die verhaallyn sorg dat die boek enduit boei. Danksy die aandag aan menseverhoudinge kry dié ontspanningslektuur aksente wat jou laat nadink oor die lewe . . . Dié derde roman van die talentvolle Stamatélos . . . verdien om gelees te word.” – ZANDRA BEZUIDENHOUT, Huisgenoot
Publikasie-inligting
Kwela Boeke, ’n druknaam van NB-Uitgewers, Heerengracht 40, Kaapstad 8001 Posbus 6525, Roggebaai 8012 www.kwela.com
© PM Stamatélos 2005
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting.
Omslagontwerp deur Hanneke du Toit E-boekontwerp deur Full Circle
Gedrukte uitgawe:
Eerste uitgawe, eerste druk 2005 Vierde druk 2009 ISBN: 978-0-7957-0203-5
Epub-uitgawe: Eerste uitgawe 2011 e-ISBN: 978-0-7957-0326-3 e-ISBN: 9780795705113 (mobi)