Rewolusie van die hart Twee vroue. Twee lande. Een stryd.
Adriana Faling
Lux Verbi
Opgedra aan elke vrou wat haar man vir ’n ruk – of vir altyd – moes afstaan ter wille van die evangelie.
Deel I
The early church was married to poverty, prisons and persecutions. Today the church is married to prosperity, personality and popularity. – Leonard Ravenhill
I Thessalonians 2:14: You, brothers and sisters, were like the churches of God in Judea that are united with Christ Yeshua. You suffered the same persecutions from the people of your own country as those churches did from the Jews who killed the Lord Yeshua and the prophets and who have persecuted us severely. They are displeasing to God. They are enemies of the whole human race because they try to keep us from telling people who are not Jewish how they can be saved. (God’s Word translation)
Hoofstuk 1
LUXOR. AUGUSTUS 2010
Saleh Samir maak haarself nog kleiner in die hoek teen die muur waar sy hurk. Haar bene kramp van die inspanning, maar sy durf nie laer sak en haar gemaklik maak nie. Langs haar is die badkamer se walglike dreinuitloop en teen die ander muur staan ’n donkie vasgemaak. As sy nou ’n verkeerde beweging maak, sal die dier begin bulk en dit sal dadelik haar wegkruipplek verklap. Sy bewe onbedaarlik en koue sweet slaan oor haar hele liggaam uit. Wat gaan sy doen? Waarheen kan sy gaan? Sy is vasgekeer in hierdie plek. Het sy tog maar die swart abaya aanhou dra sodat sy doodluiters in die straat kon afstap en met die mensemassa in die strate kon saamsmelt. Met dié eenvormige swart gewaad is ’n vrou immers bykans anoniem. Nou sal haar klere haar van ver af laat uitstaan en sal hulle haar onmiddellik raaksien. Sy moet dink. Waarheen? Dit is net sekondes voor hulle haar hier vind. O Vader, U is nog so ’n nuwe God vir my, maar ek wil U nie nou al verloor nie. Help my. Isa! Sy was in haar hele lewe nog nooit so bang nie. Die vrees wurg haar. Die kat wat teen haar bene skuur, kan sekerlik haar hart hoor klop. Sy probeer hom wegstamp. Hy loop luiweg ’n paar treë verder, gaan staan op ’n mangat en kyk rustig oor sy skouer na haar. Die drein. Dankie, Vader God. Sy huil amper van verligting. Versigtig kyk sy om haar rond en gaan lê skuins op die grond tot sy die swaar staaldeksel kan bykom. Dis loodswaar; sy skuur haar vingers teen die growwe sement om dit te probeer oopkry. En dit beweeg sowaar! Stadig sukkel sy om dit weg te skuif en uiteindelik is die gat oop voor haar. Die stank styg in haar neus op. Dit voel of die wêreld ’n oomblik tydloos en doodstil word terwyl sy haar liggaam skuinswaarts vorentoe sleep en sleep. Na die opening. Na vryheid.
Maak my onsigbaar, asseblief, Vader, smeek sy, te bang om te kyk of iemand haar nou sien. Haar armspiere ruk soos sy haar stut om in die donker stink gat af te sak. Sy hang met een arm aan die trapreling aan die binnekant terwyl sy die swaar staalplaat met haar ander hand toeskuif. Stadig. Die staalplaat wat skuur teen die sement weergalm om haar en die vrees dat sy gehoor sal word, is oorweldigend. Sy skuif dit heeltemal toe. Dis gitswart en bedompig van die walglike reuk. Sy klou aan die leer vas terwyl sy die naarheid terugsluk en haar oë aan die donker gewoond raak. Dis stil. Sy hoor die geroep van woedende stemme, toe voetstappe. ’n Voet trap hard op die mangat se deksel reg bokant haar kop en sy ruk soos sy skrik. Die voetstappe loop woedend verder. Toe is dit stil. Stink en stil. Sy staan lank bewend aan die leer en klou tot sy seker is sy is veilig. Verligting spoel oor haar voor sy geluidloos begin ruk van die huil. Toe bring sy op. Saleh probeer haar sintuie afskakel, forseer haarself moeisaam vorentoe in die donker. Dit is onbeskryflik warm. Sy is so dors. Die stank is ondraaglik en sy het reeds alles wat in haar maag was, uitgebraak soos aan die begin van haar swangerskap. Haar hande vou weer beskermend om haar ronde buik – die rede vir soveel waansin. Sy beur vorentoe in die donker, dankbaar dat sy liewer nie kan sien wat rondom haar is nie. Elke nou en dan is daar ’n dun ligstraal wat deur ’n lasplek in die dik dreinpyp beur en sy volg net ligstraal vir ligstraal vorentoe, net vorentoe. Moenie dink nie. Net vorentoe. Sweet. Dors. Sy hoor die minarette in die verte die adhan roep. Ag, God, bewaar Ashraf. Bewaar hom teen die woede van sy familie, bid sy haar eie gebede. Vorentoe en vorentoe. Ure aaneen. Geen plan nie. Beur net aan. Haar rug is seer van die vraggie wat sy saamdra.
Later dreunsing die minarette die salat: “Laa-ilaaha illa Ilaah, Muhammed resolu’lla!” Daar is geen god soos Allah nie en Mohammed is sy profeet. Dit word vyf keer per dag geproklameer oor hierdie stad, soos in alle Moslem gedomineerde gebiede wêreldwyd. Langsaam het die lig wat deur die dreinpype sypel minder geword en nou is daar ’n negentiggradehoek waarteen sy haar vasloop. Reg bokant haar is ’n dreinopening. Die behoefte na vars lug en na lig oorwin haar momentele stryd teen vrees. Sy moet spring om die leertjie by te kom wat na die mangatopening lei en met die ekstra gewig van haar baba is dit moeilik, skielik onmoontlik. Sy is gedaan. Sweet. Dors. Vader, gee my krag. Gee my uitkoms, bid sy moeg. Saleh kyk lank op na die leertjie, stoot haar arms boontoe en probeer spring met alles wat sy het. Gryp raak. Hang. Haar arms is te swak om haar op te hys en sy sal nie weer kan opkom as sy nou laat los nie. “Vader!” roep sy uit, haar stem hees van die dors. Sy begin haar bene heen en weer swaai. Met dié momentum kry sy dit op die leertjie se onderste sport tot by haar hande en begin stadig soos ’n apie opklouter. Die verligting om uit die drek te wees is onbeskryflik. Sy staan eers op die leer en klou net vas. Toe stadig boontoe, boontoe, tot haar kop by die dreinopening is. Die lig wat deurkom, is min. Sy stut haar kop eers moeg op die boonste sport. Vader God, ek weet nie wat hier bo vir ons wag nie. Ek weet nie waar ons is nie. Maar ek weet ek moet verskriklik lyk en ruik. Help my, Here. Steek ons weg. Haar arm bewe van inspanning toe sy aan die mangat se deksel druk. Dit beweeg nie. Sy druk harder en voel dit effens meegee, maar dis seker styf toe ná dit jare in onbruik verval het. Met haar rug krom skuif sy hoër op teen die leer om met haar skouer meer krag in te sit. Een, twee, drie stampe. Niks. Die noute wurg haar. “Help my, Isa,” roep sy paniekerig na Jesus. Nog een harde, desperate stamp en
die deksel lig uiteindelik. Vars, warm lug vul haar neus in ’n oomblik. Verlig skuif sy die deksel oop en kyk versigtig uit. Dis ’n afgeleë oopte, sien sy in die sterk skemer en klouter uit. Sy bly gehurk langs die gat sit en haal ’n paar keer diep asem voor sy na haar klere afkyk. Wat sy sien, laat haar maag onmiddellik weer murmureer, maar daar is nog net slym oor wat sy kan opbring. Sy skuif die deksel oor die mangat se opening en staan behoedsaam op. Hier is niemand nie. Dankbaarheid oorspoel haar. Wat nou? Turend in die donker, luister sy. Water! Sy stap stadig na die geluid, beur deur die riete. Die Nylrivier. Isa, dankie. Sy sit haar kosbare rugsak op die wal neer en loop met klere en al die water in. Dis gelukkig nou donker genoeg dat niemand haar hier naby die wal sal kan sien nie. Die verligting om haar stink klere af te spoel is onbeskryflik. Sy bly naby die wal teen die riete. Hoe wens sy hier was seep. Sy spoel haar hare af, trek haar klere uit en spoel en spoel en spoel. Maar die reuk van drek hang steeds verbete aan haar. Sy trek die een stel skoon klere aan wat Ashraf in haar rugsak gebondel het en lê die ander klere op die oewer neer om droog te word. Sy verlang magteloos na hom en sien hom weer in die oomblikke voor sy deur die venster gevlug het. Hy wat sterk en vasberade ’n paar goed in haar rugsak druk en ’n paar kriptiese reëlings deurgee. Sy wat onbedaarlik huil en ief toekyk hoe hy haar klere, beursie en selfoon in die rugsakkie druk. Hoe onbeskryflik dors sy ook al is, sy durf nie die water uit die vuil Nylrivier drink nie. Sy sluip tussen die riete uit en probeer desperaat in die donker na iets soek wat haar dors sal les. ’n Paar meter in een rigting, dan weer in ’n ander rigting, dan om ’n vullishoop om te sien of daar nie iets lê wat sy kan drink nie. Koorsagtig begin sy krap en skud aan elke plastiekhouer waarin daar vloeistof is. Die dors maak haar amper waansinnig. Uiteindelik kry sy ’n botteltjie met nog ’n paar slukke flou, warm koeldrank in, sluk dorstig, stik en soek verder, maar alles wat sy in die hande kry, is leeg. Sy gaan terug na haar skuilplek. Wat nou? Gedaan gaan lê sy net eenvoudig op die harde grond. Haar bene is tam van die dag se inspanning. Die versoeking om haar selfoon aan te skakel en Ashraf te bel is baie groot, maar hy het haar ten
strengste verbied om dit te doen. Só sal hulle albei maklik opgespoor kan word. Eers ’n ander SIM-kaart koop. Ag, my Vader, bewaar Ashraf vannag. Ek weet nie waar hy is en of hy veilig is nie. Bewaar U hom, asseblief. En bewaar my en my baba hier vanaand, bid sy en vryf saggies oor haar maag voor sy totaal uitgeput in ’n diep slaap wegsink.
Saleh word skielik helder wakker. Dit is nog donker, maar die maan het opgekom en skitter oor die Nyl. Haar lyf is seer gelê op die harde grond, maar die ongelooflike uitputting van ’n paar uur gelede is weg. Sy voel-voel oor die nat klere wat sy uitgespoel het; dis nog klam. Dit ruik steeds na die goorheid waarin sy die verskriklike lang ure onder die grond deurgebring het. Sy wonder of sy dit ooit sal uitkry, daardie reuk. Hoe laat is dit? Dringendheid oorval haar. Sy moet hier wegkom, sy moet so gou moontlik uit Luxor padgee en dit is baie makliker om ongesiens in die donker te beweeg. As sy net nie so dors was nie! Sy pak die klam klere in die rugsak en druk haar beursie en selfoon in haar broeksakke. Met ’n skoon hijab om haar kop gebind, kies sy koers tussen die riete deur. Sy het nie ’n benul waarheen sy moet gaan nie. Die eerste busse vertrek laatoggend uit Luxor, maar dit sal net te opsigtelik wees as sy daarmee ry. Hulle sal dit verwag en haar daar inwag. Nee, beslis nie. Die treinstasie het dieselfde risiko. Ryloop? As vrou sal dit hoegenaamd nie ’n veilige opsie wees nie. Stap? Stap tot in Kaïro? Dit sal haar weke neem en hoe gaan sy op pad oorleef? Sy weet nie. Dus stap sy bloot die donker in. Nyl-op is die maklikste manier om rigting te hou en ook weg te kruip tussen die riete. Sy is versigtig vir loonwerkers wat op die plase langs die Nyl werk en snags tussen die riete slaap. Sag stap. Stap en stap weg van soveel herinneringe. Stap.
Saleh het geen benul van tyd of hoe lank sy al stap nie, maar die dringendheid om weg te kom, dryf haar. Isa, wys my die pad. Ek weet glad nie wat ek nou moet doen nie en ek is regtig bang hulle sal my vind.
’n Ent verder in die maanlig is daar toeristebote en sy wil eers in ’n ander rigting koers kies, maar toe onthou sy: Farouk. Farouk werk op een van hierdie bote. ’n Idee begin posvat. Miskien kan sy hom vra om haar te help? Wat is tog die naam van die boot waarop hy werk? Sy kan glad nie onthou nie. Behoedsaam maar doelgerig stap sy in die rigting van die bote wat twee-twee in die kaai vasgemeer lê. Sy hou in die skaduwees, stap saggies verby ’n paar. Moondance, Nile Cruiser, Prince of the Nile, Royal Lilly, maar nie een naam klink bekend nie. Ag, wat is die kans dat Farouk nou hier sal wees? Moedeloosheid dreig om haar te oorweldig, wil haar laat omdraai. Ek gee uitkoms in die nag van gevaar. Dit was nie ’n stem nie, maar ’n wete binne-in haar gees. Vader? Ek ken U nog so sleg. Is dit U wat met my praat? Ek gee uitkoms in die nag van gevaar. Ek steek jou weg onder my vleuels. Kalmte kom oor haar. Sy weet nie presies hoekom nie, maar sy stap verder langs die bote verby. Toe sien sy die naam van die heel voorste boot: Jewel of the Nile. Ja! Dis die een. Dis die naam van die boot waarop Farouk werk. Sy skuil steeds in die skaduwees en wonder hoe op aarde sy hom in die hande gaan kry. Die boot lê slaapstil vasgemeer in die donker. Daar is ’n voetbrug van die kaai na die boot en ’n flou lig brand in die portaal. Durf sy oorstap en kyk of die deur oop is? Waar gaan sy begin soek na Farouk op die boot? Terwyl sy nog haar opsies oorweeg, hoor sy stemme agter haar. Sy wriemel haar dieper tussen die bougainvilleas in wat welig langs die kaai groei en moet op haar tande byt om nie uit te roep toe die dorings haar steek nie. Die mense lag uitbundig en loop effe onvas op hulle voete. “Kom, ons moet gou maak!” roep iemand in Engels. “Hulle het gesê hulle sluit tweeuur die deur.” “Hoe laat is dit nou?” “Daar is nog net drie minute oor.”
“Maak gou!” Toe begin hulle senuweeagtig lag en hardloop in die rigting van die boot. “Moenie so lawaai nie.” Nog gelag klink op. Sy is weer eens dankbaar vir die Engels wat sy op skool geleer het. Dit was een van die beste dinge wat haar pa haar ooit gedwing het om te doen. Drie minute. Drie minute om ’n plan te maak. Miskien moet sy agter hulle by die deur inglip. Maar ’n mens kan van ’n myl af sien sy is ’n plaaslike inwoner, nie ’n toeris nie. Haar kopdoek afhaal? Sy pluk dit af en kom saggies uit die skaduwee. Die mense beweeg luidrugtig oor die voetbrug. Sy draf saggies in die skaduwee agterna. Skielik gaan die deur oop en die lig val in ’n baan buitentoe. Farouk! Kan dit wees? Dis beslis sy kenmerkende neus en hoë voorkop. Hy staan in die deur en heet die gaste welkom. “Ons het nog net vir julle gewag,” sê hy, steeds vriendelik ten spyte daarvan dat dit so laat is. Sy staan in die skaduwee aan die ander kant van die brug. Durf sy na hom roep? Netnou hoor hulle haar. Die gaste loop in en Farouk tree ’n oomblik na buite om seker te maak dat almal binne is. “Farouk!” Hy bly staan en tuur die donker in. “Farouk,” roep sy weer sag. “Wie is daar?” vra hy in Arabies. “Saleh,” antwoord sy, maar bly in die donker staan. Hy maak die deur na die boot eers versigtig toe en steek toe die brug tot by haar oor. “Farouk. Dank God, dis jy.”
“Saleh? Wat maak jy hier? Dis die middel van die nag,” sê hy verbaas. “Ashraf se familie … Hulle’t fatwa oor ons uitgespreek.” Daar is skok op sy gesig. “Voëlvry verklaar. Hoe het hulle van julle uitgevind?” “Dis ’n lang storie waarvan ek jou alles sal vertel, maar eers het ek jou hulp dringend nodig. Asseblief, Farouk, ek vlug.” “Hoe kan ek jou help?” “Versteek my op die boot, asseblief, Farouk. Ek kan nie ’n trein of bus neem sonder dat iemand my sal herken nie. Dit is al manier waaraan ek kan dink om ongesiens hier te kan wegkom.” “Nee, Saleh. Ek kan my werk verloor. Ek kan dit glad nie doen nie,” sê hy uit die veld geslaan. “Ek weet, Farouk,” antwoord sy sag. “Dit skree ten hemele om iets so gevaarliks van jou te vra, maar ek weet nie wat anders om te doen nie.” “Ek het ’n vrou en kinders, Saleh.” Sy stem is beslis. “Werk is skaars. Ek kan nie bekostig om my werk te verloor nie. Ek is jammer.” “Ek verstaan, maar ek is so bang. Ek weet nie hoe anders om hier weg te kom nie.” “Ek is jammer vir jou, maar ek kan jou nie help nie. Nie ten koste van my gesin nie. Ek moet nou die deur sluit; dis die reëls.” Die wind is uit haar seile. “Ek verstaan. Jammer dat ek jou gepla het, Farouk.” Hy draai om en stap oor die brug. Die deur gaan agter hom toe, maar sy bly geplant in die donker staan. Die slot word gegrendel en die lig gaan af. Sy bly net staan. Die vrees omhels haar van agter af, en sy het geen verweer nie. Wat doen sy nou? Isa? Die slot kras weer en die deur gaan onverwags oop.
“Saleh!” Sy gee ’n tree uit die donker. Kom, wys Farouk met sy kop. Sy hardloop oor die brug en laat die vreesjas op die kaai agter. Die trane kom spontaan toe sy die veiligheid van die boot se portaal bereik. “Dankie, Farouk.” “Dis malligheid, maar ek sal nooit met my gewete kan saamleef as ek jou hier los nie,” fluister hy en kam gefrustreerd met sy vingers deur sy hare. “Ek sal onder jou bed wegkruip,” pleit sy. “Nee, ek deel ’n kajuit.” Hy sluit die deur agter hom. “Kom, maar loop op jou sagste. Ek neem jou na ’n kajuit op die gang waar ek werk. Daar is baie oop plekke, maar niemand mag weet jy is daar nie, gehoor?” Sy knik en volg hom op haar tone. Dis doodstil. Saleh hoor haar eie asemhaling in haar ore. Sy probeer haar asem ophou, doodbenoud dat iemand hulle nou sal betrap. Dis egter maklik om sag te loop op die dik matte. Oral is sagte beligting. Dis luuks en pragtig binne, presies soos Saleh al in die brosjures gesien het. Elegante binneversiering, swaar donker meubels, spieëls. Een stel trappe op, nog ’n stel op, en toe regs. Soos skimme beweeg hulle. In die gang af, tot by die heel laaste deur. Hy haal ’n kaart uit sy sak, laat gly dit deur die gleuf en maak die deur oop. Só skakel die ligte aan en skielik is daar ’n lieflike kajuit voor haar met ’n luukse bed en ’n en suite-badkamertjie. ’n Kamer geskik vir ’n koningin. Dankbaarheid en verligting spoel oor haar, maar sy sien die spanning op Farouk se gesig en sy verstaan die offer wat dit van hom vra. “Dankie, Farouk,” fluister sy weer diep dankbaar en die trane rol spontaan. Hy knik net. “Jy kan nie waag om hier uit te gaan nie, Saleh,” fluister hy. “Ek sal later vanoggend vir jou iets te ete probeer bring. Moenie nou stort nie; ek is bang iemand sal die water hoor. Wag tot jy hoor die ander gaste stort. Maar jy sal moet stort, want jy ruik vreeslik,” glimlag hy skeefweg.
“Dis ’n lang storie.” Sy kyk verleë weg. “Baie, baie dankie, Farouk.” “Ek moet nou gaan slaap, want ek moet weer vroeg op. Ek moet die kamers op hierdie gang kom diens wanneer die gaste ontbyt gaan eet, so tussen agt- en negeuur. Sodra ek klaar is en dit veilig is, kom loer ek in. Moenie die gordyne oopmaak nie.” “Reg so. Dankie, Farouk,” herhaal sy vir die soveelste keer. “Die boot vertrek soggens om vyfuur. Dan eers is jy veilig. Ons sal later die res van die reëlings uitsorteer. Heng, Saleh, dis ’n gemors. Wat gaan jy doen?” Sy donker kuif met die grys strepies val skeef oor sy gesig en dit laat hom skielik baie moeg lyk. “Ashraf het gesê ek moet Kaïro toe gaan. Dis nog baie deurmekaar en ek probeer nie te ver vooruit dink nie, want ek weet nie presies nie. Ek is so bekommerd oor hom, Farouk.” “Ek sal vir julle bid. Slaap nou eers. Ons praat weer wanneer die son skyn.” “Ek is verskriklik dors, Farouk.” “Daar staan ’n bottel water op die spieëlkas; gebruik dit solank. Moenie kraanwater drink nie.” Hy tree saggies uit. Saleh sak op die sagte mat neer. Dankie, Vader. U het woord gehou. Toe staan sy op en reik na die bottel op die ingeboude spieëlkas. Sy drink en drink en drink van die skoon water. Verligting spoel soos die water deur haar. ’n Bietjie van die water los sy vir môreoggend. Sy trek die skoon lakens van die bed af, skop haar skoene uit en nestel haar in die sagte rusplek in. Hoe ironies dat sy in doodsgevaar omring word deur meer luuksheid as wat sy nog ooit gehad het. Sy voel veilig in die afsondering, die duvet vertroostend om haar gevou. Dankie, Here. Wees asseblief met Ashraf in hierdie nag. Sy raak vinnig aan die slaap met haar arm beskermend om haar buik gevou.
Hoofstuk 2
PRETORIA. AUGUSTUS 2010
Salomé Pretorius kry bitter koud. Sy haak haar gekousde voete oor die olieverwarmer se basis, maar dit brand haar. Toe sit sy maar net weer so na moontlik aan die hitte en trek die ou Barney-kombersie – een van die kinders s’n – nog stywer om haar skouers. Vermoeienis rem aan haar nekspiere, maar sy moet die boeke klaar merk voor sy kan gaan slaap. Die graadviers is ’n oulike groep, maar hulle het almal gesukkel met hierdie Engelse opdrag. Vorige jare was dit tog nie so erg vir die outjies nie? Miskien is dit omdat hulle ’n verlengde skoolvakansie gehad het met die Wêreldbeker-sokkertoernooi waarvan Suid-Afrika die gasheer was. Tydens die kwartaal moes hulle omtrent deur die werk jaag om alles ingepas te kry. Kyk nou net hoe lyk die punte. Sy is bang haar tamheid begin haar werk beïnvloed. Eintlik kan sy nie glo dat hulle so ’n lang skoolvakansie gehad het en sy al weer moeg is nie. Dit voel of sy in ’n afwaartse spiraal van moegheid en lusteloosheid verval het. Die revueen kunswedstrydoefeninge waarvoor sy die sangdeelnemers moes voorberei, het ook nie gehelp nie. Hulle het in die vakansie ekstra oefentyd daarvoor ingeruim. As Petrus tog net tuis was. Hierdie laat, ontydige koue front is genoeg om haar dun nerwe nog verder te skaaf. Die winter was erg koud met die nagte alleen – dit bly maar net goor. Sy hoop elke winter sy kan ten minste ’n elektriese kombers koop, maar daar was weer nie geld nie. Gelukkig het sy ’n warmwatersak en ’n bed en ’n werk. Dit is steeds meer as wat baie mense het wat vannag buite in die koue moet slaap. Tel jou seëninge, Salomé Pretorius. Sy gaan haal die warmwatersak uit die bed sodat sy dit op haar seer skouers kan sit. Die kinders slaap almal rustig, sien sy toe sy by hulle kamers kom. Dankie
tog. Veral Alexander was vandag weer ’n handvol. Hy het sy pa se ferm hand nodig, besef sy maar weer elke keer wanneer Petrus weg is. Dit voel of hy booor haar loop, vier jaar oud of te nie. Sy trek die duvet stywer om hom, gee hom ’n soen op sy voorkop en kyk na sy onskuldige slaapgesiggie. “Tel jou seëninge, Salomé Pretorius,” sê sy weer saggies vir haarself en stap terug om met nuwe ywer te merk. Laatnag sit sy uiteindelik haar pen neer en gaan maak toe eers weer seker dat al die deure gesluit is, want in hierdie land weet ’n mens nooit nie.
Sy verpes hierdie histeriese oggende wanneer Petrus nie hier is nie. As hy hier is, help hy ten minste om Alexander aan te trek en pap te maak. Sy is moeg en het sleg geslaap, want Alexander het weer by haar kom inkruip in die nanag. Toe moes sy net koes vir elmboë en knieë. Boonop het sy haar wekker twee keer te veel laat snooze vanoggend. “Kom nou, asseblief, Alexander. Mamma gaan laat wees as jy nie nou gou maak nie. Talitha! Markus! Is julle klaar?” “Maar ek wil nie die pienk pap hê nie,” kerm Alexander. “Toe ek jou wakker gemaak het, het ek jou gevra watse pap jy wil hê en toe het jy gevra vir pienk pap.” Sy probeer kalm bly, maar voel hoe haar seer nekspiere stywer trek. “Maar dis nie lekker nie. Ek wil dit nie hê nie.” In ’n kermstem wat op haar senuwees werk. “Goed, dan gaan jy die kleuterskool se pap eet vanoggend, want ons moet nou ry. Talitha, Markus, kom!” “Nee, ek hou nie van die kleuterskool se pap nie.” “Ek gee nie om nie. Ek het vir jou pap gemaak en as jy dit nie wil eet nie, gaan jy die kleuterskool se pap eet. Borsel nou jou tande en klim in die kar. Talitha, is jou kosblik in?”
“Ja, Mamma.” “Nee, ek gaan nie, ek hou nie van die kleuterskool se pap nie.” “Nou eet dan jou pienk pap. Markus, gaan kry jou skoolbaadjie, dis yskoud.” “Nee,” kom dit van Alexander. “Dan bly jy honger.” Hy hou eintlik van die pap, maar is nou net in ’n magstryd met haar gewikkel. “Ek kry nie my baadjie nie, Ma!” roep Markus vanuit sy kamer. “Mamma wil ook net altyd hê ek moet honger bly,” huil Alexander tussendeur. “Maar jy het dit dan gister aangehad,” vat sy vlam teenoor Markus. “Ek weet, maar ek dink ek het dit by die skool vergeet.” “Ek wil tierpap hê,” huil Alexander. “Ons moet ry, Mamma; dit is al tien oor sewe,” sê Talitha. “Dink jy ek weet dit nie, Talitha?” Sy weet sy moenie begin skree nie, maar sy kry dit nie gekeer nie. “Ek is net een mens en ek moet vir vyf mense dink. Hoekom het jy jou baadjie by die skool gelos, Markus? Weet jy wat kos skoolbaadjies? En hou nou jou smoel, Alexander, voor ek dit toeklap.” Nou huil Alexander volstoom. Markus sê niks en Talitha het daardie seergemaakte uitdrukking wat sê dit was ’n onregverdige uittrap. Dis eintlik alles my skuld, weet Salomé. Sy moes met die eerste wekker al opgestaan het. “Loop klim in die kar, die lot van julle. Julle maak my so die hoenders in!” skree sy skuldig. “Markus moet nou maar vries en Alexander honger ly, want ons moet nou ry.” Alexander skree vir die eerste prys en sit waar hy sit. Daar is nie meer tyd vir tande borsel nie; hy moet nou net so in die motor. Hy kan sy pienk pap by skool gaan eet. Sy gryp haar handsak, die boks gemerkte boeke en die papbakkie met die een arm, Alexander met die ander. Hy skree en skop en probeer haar byt deur
haar dik jas, maar sy behou haar greep. Toe klap hy met opset die papbakkie uit haar hand en die volgende oomblik – asof in vertraagde beweging – is daar pap oor die boeke, haar jas, selfs haar hare. Die papbakkie rol oor die grond. Alexander is meteens doodstil en kyk uitdagend na haar. Twee ander pare oë staar geskok. Here, help my of ek gaan hierdie kind nou doodslaan, bid sy in haar hart terwyl sy alles op die grond neersit en ’n oomblik net so bly sit. “Kom ek help Mamma,” sê Talitha versigtig, kry ’n lap en begin die boeke afvee. Salomé staan stadig op en sê niks, trek haar vuil jas uit en gee die motorsleutel vir Markus. “Sluit solank die kar oop, Markus, en help vir Alexander in,” sê sy gevaarlik kalm. Sy stap badkamer toe om die pap van haar hare te gaan afvee. Pienk pap. Sy bekyk die prentjie in die spieël, begin eers lag en toe moeg huil. “Ag, Petrus. Ek het jou nodig by die huis,” sê sy vir haar spieëlbeeld. My genade is vir jou genoeg, kom die bekende woorde in haar gees op. “Dit voel nie so nie, Here,” antwoord sy hardop terug en begin verwoed skoonmaak. Talitha kom stil in met die stapel boeke. Salomé vee haar trane af en probeer om nie die bietjie grimering wat daar was heeltemal af te vee nie. “Dankie, my liewe kind.” Sy druk haar ’n oomblik vas. “Ek is jammer ek het geskree,” sê sy in haar dogtertjie se hare. “Toemaar, Mamma. Is Mamma okay?” “Hang af of ek nog pienk pap in my hare het?” vra sy gelate. “Kyk gou agter, asseblief.” “Ja, wag, buk af, Mamma, dat ek dit kan uithaal.” “Dankie, poppie.” Sy kyk ’n laaste keer na haar haarstyl wat nou lyk asof ’n koei haar gelek het. “Ag tog. Kom. Ons is nou baie laat.” Sy gryp ’n ander baadjie uit die kas en hulle hardloop gangaf.
Alexander is stil in die motor. Weer een-nul in sy guns, dink Salomé wrang. Hy is al tien-nul voor. “My baadjie was in die kar, Mamma,” verbreek Markus die stilte. “Wel, jy kan jou seëninge tel, want as dit weg was, was dit weg. Ek koop nie weer een nie.” “Ja, Ma.” Onderdanig opstandig. Stilte. “Kom, ons moet nog bid vir die dag.” Dis dalk hoekom alles so skeefgeloop het. “Ons bid sommer terwyl ons ry. Liewe Vader, baie dankie vir ’n nuwe dag. Dankie vir kos en klere en ’n warm bed; dis alles genade uit u hand. Ons bid vir die mense wat koud kry en honger is. Help ons om vir hulle ook te kan gee. Ons bid veral vir die mense van die kerke in die geslote lande; versterk en bemoedig hulle, Here. Wees asseblief met Pappa daar ver. Beskerm hom en gee hom die geleentheid om u liefde vir die wêreld te wys en die evangelie met iemand te deel. Beskerm ons asseblief elkeen vandag by ons verskillende skole en bring ons weer vanmiddag veilig bymekaar. Dit bid ons is Jesus se Naam.” “Amen,” koor almal saam toe hulle by Alexander se skooltjie stop.
Salomé gaan sit altyd in die musiekklas wanneer sy ’n af periode het. Sy het weer boeke om te merk, maar vanoggend se drama met Alexander krap steeds aan haar. Sy staar by die venster uit met die stapel boeke oop voor haar. Wat doen sy verkeerd? Waarom is dit altyd ’n kop-aan-kop-botsing met die kind? Sy het tog ’n goeie verhouding met die ander twee en kan wraggies nie onthou dat hulle so moeilik was nie. Ja, sy weet hy het ’n sterk wil, maar sy wil so graag ’n goeie verhouding met hom ook hê. Die moegheid en moedeloosheid maak dat sy sommer tranerig is toe daar ’n klop aan die deur kom. Sy knip haar oë vinnig. “Kom in.” Dirk. Sy het hom vanoggend in die verbygaan gevra of hy asseblief na die wasmasjien kan kom kyk. “Hei!”
“Haai, Dirk.” “En as jy so sit?” Sug. “Dis daardie klein mannetjie van my; hy trek die bloed onder my naels uit. Hy’t my vanoggend met sy pap gegooi. Oor my hare, klere en selfs die graadviers se boeke. Kan jy dit glo? Net vier jaar oud.” “En ek dag jy’t net ’n nuwe haarjel probeer,” terg hy. “Ha-ha, baie snaaks. In elk geval, ek wonder maar net hoe bou ’n mens ’n verhouding met so ’n moeilike knapie. Hy’s my kínd. Ek kan tog nie sy grootste vyand wees nie?” “Ek hoor jou.” Hy kom sit op die punt van haar lessenaar. “Hoe doen jy dit? Was een van jou kinders so moeilik?” “Dewald was ook maar ’n handvol ná Celia se dood,” dink hy terug. “Ek het maar net baie tyd saam met hom deurgebring. Bal gegooi, boekies gelees, sulke goed. Toe het dit vanself oorgegaan. Maar ek dink dit was vir my makliker omdat hy ’n seun is. Riana was weer vir my moeiliker, maar sy het haar hart uitgehuil en met haar skooljuffrou ’n verhouding opgebou, daarna het dit ook met haar beter gegaan.” “Ja, ek bring seker net nie genoeg tyd saam met hom deur nie. Dis net so ’n deurmekaarspul wanneer Petrus weg is. Ek is besig met die buitemuurs hier en ry die ander twee rond. Maar nou ja, ek sal ’n plan moet maak met hom.” “Sterkte.” “Dankie. Hoor hier, sien jy kans vir daardie wasmasjien van my? Jy’t mos gesê ek kan op jou knoppie druk?” “Presies. Jy’s welkom. Ek kan sommer laatmiddag verby kom?” “Asseblief, man. Ek kan net nie sonder die masjien klaarkom nie.” “Nee, dis goed so. Ek bring sommer die kinders saam, as dit reg is. So teen vieruur?”
“Dankie, dis perfek.” Ag, Dirk is so ’n gawe ou, dink sy toe hy uit is. Sy kry hom soms jammer, so manalleen met die twee oulike kinders. Sagte ou. Hartseer ou. Foeitog. Sy voel sommer beter. Wat Alexander betref, sy sal ’n plan moet maak om meer tyd saam met hom deur te bring. Sy moet iets doen, anders gaan niks verander nie. Toe trek sy die stapel boeke weer nader en begin met nuwe ywer merk.
Dirk hou net so ná vieruur voor die huis stil. Sy twee kinders hop uit die motor en begin dadelik met haar twee oudstes speel. Hulle het mettertyd al lekker maats geword. “Ag, dankie, Dirk. Kom sommer deur. Hier staan dit, in die waskamer.” Sy loop vooruit. “Nie eens ‘Hoe gaan dit?’ of ‘Wil jy koeldrank hê’ nie? Nee, ‘Kom sommer deur’,” sê hy met ’n laggie terwyl hy instap. Sy lag hardop en steek in haar spore vas. “Ag, ekskuus, ek is hopeloos te taakgedrewe. Wil jy koeldrank hê? En hoe gaan dit?” “Nee, nou voel ek heeltemal te simpel om koeldrank te drink. Laat ek maar eers kyk wat fout is. My betaling kan dan maar die koeldrank wees.” “Afgespreek.” Alexander volg stil en kom staan by Dirk. “Hallo, bulletjie.” Dirk vryf oor sy hare. Hy sê niks. “Sê hallo vir oom Dirk, Alexander,” moedig Salomé aan. “Hallo,” sê Alexander kortaf. Sy kyk verleë na Dirk, maar hy skud sy kop om te beduie dat sy nie sleg moet voel nie.
“Help jy jou mamma mooi by die huis?” probeer Dirk weer. Alexander staan halfagter haar en hou aan haar been vas, sê niks. “Jy moet jou mamma mooi help as Pappa nie hier is nie, hoor? Jy moenie met haar baklei nie.” Sy voel hoe Alexander terugtrek. Dirk het te ver gegaan. Jy moet Alexander nooit direk konfronteer nie. Jy moet ompaaie loop met hom, die verhouding eers opbou. Petrus doen dit altyd so goed. Sy tel hom op. “Kom kyk wat doen oom Dirk; hy gaan vir ons die wasmasjien regmaak.” “Probeer regmaak,” sê Dirk bekommerd. Hy begin aan die masjien se wastrommel draai en wikkel die skroewe aan die agterkant los terwyl hy ’n klomp vrae vra. Alexander gly van haar heup af en staan nader. Hy wil gewoonlik weet hoe alles werk. Tjoepstil kyk hy na alles wat Dirk doen. “Bêre ’n bietjie vir my die skroewedraaier, bulletjie.” Alexander staan gretig nader en doen dit. “Het Oom ’n hamer ook?” vra hy toe hy in die gereedskapkas loer. “Ja, maar ek dink nie ek het dit saamgebring nie.” “My pa het twee hamers,” sê hy trots. “O? Waarvoor gebruik hy twee?” “Hy gebruik die een as hy nie die ander een kan kry nie.” Salomé lag. Ja, dis presies hoekom hy twee het. “My pappa het gevlieg.” “Regtig?” Dirk hou hom dom terwyl hy werskaf. “En waarheen het hy gevlieg?” “Na ’n ander land toe.”
“O? En wat doen hy daar?” “Hy vertel die mense van Jesus.” Dirk is ’n oomblik stil. Salomé voel sy ongemak aan. “Jy’s reg, my seuntjie. Ek sien jy is baie slim,” probeer sy die oomblik red. “Is Oom nou klaar?” “Wel, ek het die fout gekry. Kyk hier, die pyp is verstop.” Hy wys vir hulle. “Ek gaan dit losmaak en afhaal, dan spoel ons dit skoon.” Nie lank daarna nie loop die masjien weer klopdisselboom. “Dankie, Dirk. Ek is sommer baie verlig. Ek het nie nou geld vir ’n nuwe een nie.” “Plesier. Maar nou soek ek asseblief my betaling.” Sy lag en gooi ’n groot glas koeldrank in. “Jy kan die kleingeld hou.”
Hoofstuk 3
NYLRIVIER. AUGUSTUS 2010
Toe Saleh wakker word, beweeg die boot reeds. Sy sak dankbaar op die kussings terug en bekyk haar omgewing vanaf die bed. Sy kan nie glo sy is in ’n luukse kajuit op die Nylrivier nie. Daar is ’n gerustellende wete in haar dat haar nuwe Vader dit so bewerk het. Sy voel veilig en kosbaar, al vlug sy vir haar en haar kind se lewe. “Dankie, Vader. Wees asseblief ook so ’n beskermer vir Ashraf,” fluister sy. Vaagweg kan sy beweging hoor. Die boot se asiers is wakker. Sy moet nou gou stort. Erg dankbaar staan sy onder die kraan en was en was haar hare met die komplimentêre sjampoe. Sy spoel weer die klere van gister uit en was dit sommer met die badseep wat hier neergesit is. Toe sy uitklim, voel sy soos ’n nuwe mens. In die kas kry sy plastiekhangers en hang die nat klere daaraan in die badkamer op. Sy wens sy het nog ’n stel skoon klere, maar trek toe maar weer gisteraand s’n aan. Sy is honger. Verskriklik honger. Wanneer laas het sy geëet? Sy trek die bed reg en kyk na die klein slukkie water onder in die bottel. As sy net haar tande kan borsel. Miskien … Sy krap in haar sak en vind haar beursie, selfoon en laaier. En ’n tandeborsel! Dierbare Ashraf. Dankie. Sy wens sy kon weet of hy veilig is, haar foon aanskakel en hom bel. Tog het hy haar so streng verbied. Nee, sy kan dit nie doen nie. Daardie laaste oomblikke tussen hulle speel weer in haar gemoed af.
“As dit die wil van Isa is, Saleh, sal Hy ons vir mekaar beskerm. Hy sal ons help om mekaar op te spoor. Hou by die plan en ek sal alles in my vermoë doen om jou daar te kry. Gaan nou. Gaan nou vinnig.” “Ek wil jou nie hier los nie, Ashraf. Sê nou hulle maak jou dood?” “Ek wil net eers seker maak dat jy en ons kind veilig is, dan sal ek ’n manier vind om te ontsnap. Gaan nou, Saleh. Ter wille van ons kind.” Hulle het die woedende stemme gehoor wat na die kamer toe opkom. Sy het hom een laaste keer vasgegryp, omgedraai en moeisaam met haar groter buik deur die venstertjie geklouter. Hy het die rugsakkie deur die venstertjie aangegee. “Maak gou, Saleh,” het hy dringend gefluister. “Hulle is nou bo. Daar is niemand wat sal sien as jy nou spring nie. Isa is by jou.” ’n Sagte klop aan die kajuit se deur onderbreek haar gedagtes. Sy is te bang om te roer. Bly net so sit. Hou haar asem op. Weer ’n sagte klop. “Saleh?” “Farouk. Dankie tog.” Sy maak die deur saggies agter hom toe. “Sjoe, dit ruik beter,” glimlag hy vir haar. “Dankie. Ek het van die sjampoe en goed gebruik, maar ek kan betaal daarvoor.” Sy stap na haar sak om haar beursie uit te haal. “Nee wat. Daar is baie gaste wat verkies om hulle eie seep en goed wat hulle saamgebring het te gebruik; dus is daar altyd ekstra. Ek sal môre weer vir jou bring.” Hy lyk steeds moeg. “Het ek jou uit die slaap gehou?” “ ’n Bietjie,” antwoord hy eerlik. “Ek is jammer. Ek weet nie hoe ek jou ooit kan vergoed nie?”
Dit is ’n oomblik ongemaklik tussen hulle. Dis nie die gebruik dat ’n man alleen met ’n ander man se vrou praat nie. “Ek is net bly ons is nou op pad, ” verbreek Farouk die stilte. “Ek ook.” “Ek kan nie nou gesels nie, hoewel ek brand om alles te hoor. Ek wou net kom kyk of alles reg is by jou. Ek sal vir jou iets te ete probeer bring sodra die gaste klaar geëet het. Ons gaan later vanoggend weer stilhou. Die boot gaan by Esna vasmeer, dan gaan die gaste gewoonlik ’n bietjie inkopies doen vir ’n paar uur. As ek seker is dit is veilig, loer ek by jou in. Reg so?” Sy knik. “Nou ja, geniet die rit aan boord die Jewel of the Nile.” Hy hou dit lig. “Ek voel soos ’n koningin.” “Goed so. O ja, hier is solank nog ’n bottel water.” Hy bring dit van onder ’n stapel wit handdoeke te voorskyn. “Wonderlik.” “Dit kos egter geld,” sê hy effe verleë. “Als reg. Ek het kontant by my. Kan ek met jou regmaak aan die einde?” “Ja, dis makliker.” “Nou goed.” “Tot later.” Hy glip weer saggies uit. Die gewieg van die groot boot, die uitputting van gister en laas nag se min slaap maak dat haar oë toeval waar sy op die bed lê. Sy het niks om te doen behalwe wag nie. Sy is honger.
Toe die deur saggies agter Farouk toeklik, word sy dadelik wakker. Haar sintuie
skerp. “Hallo, slaapkous,” terg hy vriendelik. “Ontbyt.” Hy bring ’n bord vol broodjies, gerolde vleisies, kaas en vrugte te voorskyn. “Dit lyk heerlik. Dankie, Farouk.” “Kom, eet. Jy moet daardie baba voer.” Sy sluit haar oë ’n oomblik en sê dankie vir die kos soos sy by Uncle George geleer het. Farouk staan eerbiedig tot sy klaar is en sak toe in die stoel in die hoek neer. “Nou toe. Laat ek hoor wat gebeur het.” “Het ons dan al stilgehou?” vra Saleh verbaas tussen die heerlike happe deur. “Seker ’n halfuur gelede al. Maar ek moes eers seker maak dat alles rustig is voor ek hierheen kon kom. Die boot is eintlik nou verlate met die toeriste wat inkopies doen en die bemanningslede wat gou ’n uiltjie knip of selfs gou inkopies doen.” “Hierdie kos is heerlik. Ek was flou van die honger.” Sy eet eers klaar. “Ons het uitgevind dit is ’n seuntjie,” begin sy met ’n hartseer glimlag. “Ons was so opgewonde om vir Ashraf se ouers te gaan vertel. Hulle weet hoe lank ons al hoop vir ’n baba en ons het dit stil gehou tot ons seker was ek is verby die vroeë miskraamgevaar. Toe ons gegaan het vir die laaste sonar, kon die dokter sien dat dit ’n seuntjie is. Ons het besluit om sommer dadelik verlof in te sit, die lang rit aan te pak en vir Farouk se ouers te gaan kuier om hulle self die goeie nuus te vertel.” “Wanneer was dit?” “Verlede week. Sjoe, ek het skoon tred met die tyd verloor, watter dag is dit ooit?” “Saterdag 7 Augustus.” “In elk geval, ons is toe weg. Eers per trein uit Kaïro en toe per bus na Luxor. Jy
weet hoe lank ’n mens soontoe ry. Ek was gedaan, maar ons wou hulle so graag self vertel.” “En toe?” “Wel, hulle kon dadelik sien ek is swanger en hulle was so opgewonde saam met ons. En toe hulle hoor dat dit ’n seun is, kon ek sien Ashraf wou bars van trots.” “Ek kan dit dink,” sê Farouk, self pa van twee seuns en ’n dogter. “Maar toe sê sy ma: ‘Wonderlik! Dan kan julle hom Mohammed noem, na sy oupa.’ Ons het eers niks gesê nie, net vir mekaar gekyk. Die volgende oggend het sy dit weer gesê, oor en oor, en sy het gewag vir ons antwoord. Ons sê toe dat ons nog dink oor ’n naam vir hom. Dit het haar dadelik op haar perdjie gehad. My skoonpa ook: ‘Hoe kan julle hom ’n ander naam gee as die naam van die heilige profeet?’ het hulle geskreeu. Ons het maar net stilgebly, want ons weet hoe vurig hulle kan raak oor die geloof. Ashraf het baie diplomaties probeer sê dat ons nog net nie besluit het nie, dat hulle ons net ’n kans moet gee. Hulle wou niks weet nie. Daar is geen ander naam wat goed genoeg is vir hulle kleinseun as die naam Mohammed nie. Ashraf se tweede naam is ook mos Mohammed.” “Ek onthou,” sê Farouk. “Nou ja, en toe vra hulle die vraag wat ons al so lank vrees, direk, sonder omdraaikans: ‘Of het julle dalk intussen kafirs geword en die geloof verlaat?’ Hoe moes ons antwoord sonder om Isa te verloën?” Sy kyk vraend na Farouk. Farouk kyk haar gespanne aan: “Wat het julle geantwoord?” “Eers niks. Ons het net daar gestaan en al die wind was uit ons seile. Ek kon skaars asemhaal. Dit was asof die aarde vir ’n oomblik gaan stilstaan het. Sy pa het dreigend opgestaan, voor ons kom staan en baie sag gesê: ‘Sê vir my die waarheid. Het julle die profeet verloën? Dien julle nou die god van die heidene? Sê vir my!’ “Ek het gedink ek gaan op die plek dood, maar Ashraf het sy kop gelig, sy pa in die oë gekyk en gesê: ‘Ek en Saleh dien nou die ware God, Pa. Sy naam is Isa.’ “Alle hel het losgebars. Hy het Ashraf op die plek met die vuis in die gesig
geslaan, gesê hy is ’n skande vir sy huishouding en hy wens hy was nooit gebore nie.” Sy huil nou. “Hy het my uitgeskel vir ’n hoer wat sy seun in die afgrond in verlei het. Hy het gesê dit het alles begin toe ek vir daardie uitlanders begin werk het. Hulle het ons toegesluit in ons kamer en gesê hulle gee ons ’n halfuur om tot ons sinne te kom, anders gaan hulle ons daar hou tot die baba gebore is dat hulle hom kan grootmaak en van Mohammed kan leer. Vir ons sou hulle laat doodmaak, want ons is ’n skandvlek op hulle huis. Ashraf het dadelik langs die bed gaan kniel en gesê ons moet bid. Ek was histeries van vrees. Ek het aanhou huil oor my kind. Ek het gesê: ‘Ek kan nie dat hulle hierdie baba wat ons uiteindelik gekry het, vat nie.’ Ashraf was so kalm. Hy het gesê: ‘Saleh, kalmeer. God weet dit ook. Hy het vir ons die baba gegee. Hy sal ons help om die baba te beskerm.’ Toe bid ons. Ek het eerlikwaar nog steeds nie geweet wat om te doen nie. Ashraf was ’n rukkie stil en toe sê hy: ‘Jy sal eers alleen met die kind moet vlug.’ ” Ashraf het gesê die baba se veiligheid kom nou eerste, want dit is hom wat hulle wil hê. Sy moes teruggaan Kaïro toe, maar moet nie met die bus of die trein ry nie, en glad nie na hulle woonstel toe gaan nie. Hy het voorgestel dat sy in die geheim met Uncle George in verbinding probeer kom, want hy het kontakte. Sy is deur die badkamervenster op die tweede verdieping weg. Dit kon nie anders nie, sy ouers was tot enigiets in staat nadat hulle fatwa oor hulle uitgespreek het. “Ek wou hom nie daar los nie, Farouk, maar ek het nie ’n keuse gehad nie. Ek het van die tweede verdieping gespring en sonder besering geland. Seker die engele. Maar toe was ek vasgekeer in die agterplaas. Ek kon hoor hoe hulle vloek en na my soek.” “En hoe kom jy toe weg?” vra hy. “Vader God wys toe vir my die mangat na die rioolstelsel.” “Dit verklaar die reuk,” sê Farouk met simpatie in sy oë. Die trane prik skielik in Saleh se oë by die vernederende herinnering daaraan. “Dit was die enigste pad na vryheid. Ek het hier naby die Nyl uitgekom en hier is ek,” sê sy gemaak dapper. Hy knik. “Farouk was reg. Jy kan hom nie kontak nie. Dan was dit alles verniet.” “Ja, ek weet.”
Stilte. “Isa is by hom, Saleh. Hy sal hom help soos Hy jou gehelp het,” troos hy. “Ek hoop so.” Hy dink ’n bietjie na. “Het hulle dit nooit voorheen vermoed nie, sy familie?” “Nee, ons het dit natuurlik ’n geheim gehou. Dit was ook makliker omdat hulle so ver van ons af woon.” “Ja.” “Maar nou is dit nag,” sê Saleh moedeloos. “Jy besef ons vaar weg van Kaïro? Van Luxor tot Aswan?” “Nee, ek het dit nie geweet nie,” antwoord sy geskok. “Ek het geen idee wat ek gaan doen om in Kaïro te kom nie. Ek het net geweet ek moet wegkom.” “Goed. Dan sal ek saam met jou bid daarvoor.” “Mag Isa jou en jou familie beskerm vir wat jy vir my doen.” “Amen,” sê hy ernstig.
Hoofstuk 4
PRETORIA. AUGUSTUS 2010
Die dae wat Petrus weg is, gaan altyd stadig verby. Op ’n manier het Salomé en die kinders al daarmee leer saamleef, maar dit bly lank. Met elke reis is daar ’n ander kind wat swaar trek. Hierdie keer is dit beslis Alexander en hy haal dit op sy ma uit, dink Salomé wrang. Sy moet nog iets sinvols bedink wat sy saam met hom kan doen. Dis gelukkig nog net een aand voor Petrus terugkom. Dit voel vir Salomé of sy net nog die laaste entjie tot by die wenpaal moet hardloop, dan kan sy rus. Maar sy is fisiek en emosioneel so moeg dat sy nie eens weet hoe sy dit tot daar gaan maak nie. Die revue wil nog nie lekker aanmekaarvloei nie en sy is nie seker wat om te verander om dit te laat vlot nie. Die kinders se sangitems vir die kunswedstryd ken sy nou uit haar kop en sy wil ’n oorval kry wanneer hulle oor en oor dieselfde foute maak. Kan hulle dan nie hoor dat hulle dit verkeerd sing nie? Maar sy byt op haar tande en probeer dit vir hulle prettig hou om te oefen, anders het sy dalk volgende jaar geen kandidate nie. Soos hulle nou aangaan, gaan hulle beslis nie A-simbole kry nie. “Agge nee, die krag is af,” sê Talitha toe hulle teen skemeraand by die huis instap. Oral op pad terug van Talitha se balletklas was die verkeersligte ook af. Salomé het gelukkig al vanoggend sop uitgehaal om te ontvries, maar sonder krag sal sy dit nie warm kan kry nie. Sy sal aan ’n plan moet dink. Dirk sal nie kan help nie; by hulle sal die krag ook af wees. Sy kan seker wegneemetes gaan koop, maar sy weet nie tot waar die krag af is nie. Hoe ver sal sy moet ry vir iets te ete, en dan nog wag dat hulle dit klaarmaak? En wat gaan dit kos? Sy het nie daarvoor begroot nie. Nee.
Die gasstofie. Sy vind die gasbottel in die motorhuis en die plaatjie iewers in ’n stowwerige boks op die rak. Die gaslampie staan ook daar. Goed, nou moet sy vinnig werk terwyl dit nog lig genoeg is. Sy kry met ’n gesukkel die gasplaat aan die bottel gedraai en sit die pot met die sop bo-op om warm te word terwyl sy gou vir Alexander gaan bad. Deels om hom by die vlam weg te hou en deels omdat sy dan nog kan sien wat sy doen. “Markus, hou ’n ogie oor die gasplaat, maar moet asseblief nie daaraan karring nie.” Tussen ’n vlam en ’n seun is daar mos ’n magnetiese aantrekkingskrag. Miskien is hy nie die regte persoon vir die werk nie, maar Talitha probeer nog gou haar huiswerk klaarmaak in die laaste lig. Die gespeel en gespartel waarvoor Alexander lus het, is die laaste ding waarvoor sy krag het, maar sy jaag hom gangaf en hardloop agter hom, om en om die eetkamertafel. Dit is bloot makliker om met ’n vrolike kind as ’n moeilike kind oor die weg te kom; daarom dat sy saamspeel. Sy ruik die sop. “O jitte, Alexander, die sop gaan brand! Kom nou asseblief dat ek jou kan aantrek.” “Jy kan my nie vang nie. Jy kan my nie vang nie!” “Asseblief, Alexander. Vinnig nou.” Maar hy hardloop al weer gangaf. Sy hardloop eers om die sop te gaan roer. Dit het gelukkig nie te erg aangebrand nie. Sy draai die gas ’n bietjie sagter en haal solank die lamp uit die boks. ’n Gesukkel in die skemerdonker. Sy weet nie mooi hoe ’n mens die lamp se mussie oortrek nie. “Kan ek probeer, Mamma?” vra Markus. “Nee, Markus, gee net kans dat ek gou kyk.” Haastig. “Jy kan my nie vang nie. Jy kan my nie vang nie!” Alexander is kaalstert hier om hulle. “Ek kry koud, Mamma!” kla hy.
“Ja, ek het gesê ek wil jou eers gaan aantrek,” sê sy terwyl sy sukkel. “Markus, ag help gou vir Alexander aantrek, asseblief.” “Nee, Mamma moet my aantrek.” Alexander trek aan haar arm. “Alexander, asseblief! Gee my net ’n kans om die lig aan te steek.” “Kom, Mamma.” Die lamp gly uit haar hande en toe sy dit probeer gryp, stamp sy die pot warm sop van die plaatjie af. Sy gil en Alexander skree. Markus gryp sy arm geskok vas en kyk na haar met ’n gepynigde uitdrukking. Die sop het oor hom uitgeskiet. “Markus! My kind!” Sy is by hom met een tree. “Ag, Here, help.” Sy probeer sy klere saggies wegstoot om te kyk. “Here, dankie dat hy langmoue aanhet,” bid sy kliphard. Die vel is rooi opgehewe en lyk sommer dadelik of dit ’n blaas vorm. Dit gaan binnekort baie seerder word. Talitha kom in en kyk geskok rond. “Wat het hier gebeur?” Alexander skree steeds en hou sy voet vas. Hy het dit gesny op die glasstukke van die lampie wat geval het. “Sien jy nou wat het gebeur, omdat jy nie vir Mamma luister nie?” tier sy na Alexander. Waar is die vuurhoutjies dat sy net ’n kers kan aansteek? Haar hande bewe toe sy dit kry en ’n lig aansteek. Haar hart breek vir die huilende Markus. “Toemaar, Markus, ons sal nou ry.” “Bly kalm, Salomé,” praat sy hardop met haarself. Eers tel sy Alexander op en sit hom kaalbas op die kombuiskas, weg van die glas. Hy huil nou kliphard. Sy hou die kers naby en trek die glasstukkie uit. “Talitha, klim in die kar, ons moet hospitaal toe,” sê sy koorsagtig terwyl sy in die noodhulpkas vir pleisters krap. Pilhouers val op die grond soos sy krap en nie mooi kan sien nie. Dis die brandspuitgoed wat sy raakvat. Wonderlik. Sy het al
vergeet sy het hierdie goed. “Trek jou mou hoog op, Markus, dat Mamma dié kan opspuit.” “Gaan dit seer wees?” huil hy. “Nee, ek dink dit gaan dit beter laat voel.” Sy spuit dit mildelik op sy arm en sien op sy gesig dat die brandpyn effens bedaar. “Hou hierdie botteltjie vas en spuit die hele tyd dat dit nie seerder word nie, reg so?” “Ja, Mamma.” Sy vryf oor sy gesig. Sy wange is so nat soos hare. “Ag, my liewe seun. Ek is baie jammer.” “Toemaar, Mamma, dit was ’n ongeluk.” Hy byt op sy tande. Talitha het intussen stil die pleisters gevind en probeer Alexander se seerplek toeplak. Effe onhandig, maar darem. “Dankie, poppie. Nou toe, kom dadelik en klim in die kar.” Sy sluit die deur oop. “Ek kry koud, Mamma,” huil Alexander. Ag aarde, die kind is nog kaal. Sy gryp inderhaas sy nagklere en trek dit vir hom aan. Hy is nou heel bedees en laat haar begaan. Sy tel hom op en gryp die motorsleutels in die verbygaan. Blaas die kers dood. In die truspieëltjie kan sy Markus se gesig uitmaak. Ag, Here. Waarom? Ek haat Petrus. Iemand het eenmaal gesê dat liefde en haat baie naby aan mekaar lê. Vanaand haat sy hom. Waarom moes hy juis nou weg wees?
Die noodgevalledokter reken die brandspuitgoed was ’n bestiering. Hulle wil Markus nog ’n paar uur hou vir observasie, dan kan hy huis toe gaan. Hy het pynmedikasie gekry en lê nou en slaap in die ongevallebed. Sy en Talitha sit op
’n plastiekhospitaalbankie en Alexander lê op haar skoot en slaap. Sy is honger en besef nou eers hulle het nog niks geëet nie. Haar horlosie sê dis halfnege. “Is jy honger, pop?” “Nee, Mamma, net moeg.” “Ek het tannie Thea gebel. Sy sal julle nou kom haal, hoor,” en sy vryf oor haar hare. Dirk se foon was af, anders sou hy dalk kon kom. Sy is nie lus vir haar sus se ewige kritiek nie, maar nou ja. “Gaan ons by tannie Thea slaap?” “Ja. Mamma sal julle môreoggend vroeg kom haal, voor skool.” “Maar Pappa kom môreoggend.” “Ja, ek weet. Julle sal hom dan direk ná skool sien. Reg so? Hy kan môre by Markus bly.” Hy beter! “Goed,” antwoord Talitha teleurgesteld. “Ek mis vir Pappa.” “Ek ook,” sê Salomé terughoudend. Sy haal haar selfoon uit om vir Petrus ’n SMS te stuur oor wat gebeur het. Sien daar het intussen een van hom deurgekom: Nou in die vliegtuig. Op pad huis toe. Mis julle baie. Liefde. Hy sal dus nie nou haar boodskap kan kry nie. Sy vee die boodskap driftig af. Bêre die foon en staar net. Uiteindelik daag Thea op. “Ag, dankie, Thea.” “Natuurlik! Hoe gaan dit met Markus?” “Hulle het vir hom ’n drip opgesit, om seker te maak dat hy nie dehidreer nie.” “Nou toe. Dan kry ek ’n dogtertjie vir die aand. Jippie!” Sy vat Talitha se hand. Talitha glimlag terug. “Ek sal Alexander na jou kar toe dra, Thea. Hy sal hopelik regdeur slaap. Ek
hoop net nie hy huil in die nag nie; hy soek soms na my.” “Toemaar, dis nie die eerste keer dat hy by sy tannie slaap nie. Ons sal regkom.” “Dankie, sus. Jy’s ’n ster.” “Ek weet,” glimlag Thea. “Maar jy lyk soos die dood self,” voeg sy ernstig by. “Dankie,” sê Salomé wrang. “Nee, regtig. Hierdie reise van Petrus raak nou ’n bietjie erg, vir ons almal. ’n Man hoort by die huis.” “Kan ons later hieroor praat?” “Ek sê maar net.” “Ek sê ook maar net.”
Salomé sit met ’n koppie koffie voor haar en uitstaar toe hulle weg is, dankbaar dat die ander twee kinders versorg is. Die rekening het haar bekommerd. Sy glo nie ongevalle word deur die hospitaalplan gedek nie. Betaal ’n mens per uur wat jy hier is? Sy is te gedaan om te gaan uitvra daaroor. Die ouer vrou oorkant haar staan op en stap na haar toe. “Mag ek?” vra sy vriendelik en wys na die oop sitplek langs haar. Salomé knik. Sy is stom van die moegheid en hoop nie die vrou wil gesels nie. “Ek het jou sien inkom met jou seuntjie?” “Ja.” “Wat het gebeur?” “Ek het kokende sop oor hom uitgegooi.” Sy het dit aspris só gesê. Om haarself daarmee te straf en hopelik die gesprek te beëindig. Die tante deins egter nie terug nie.
“Sjoe, eina! Darem net oor sy arm, lyk dit vir my?” “Ja, darem.” Sy bied geen verdere verklaring nie. “Hoe oud is hy?” beur sy voort. “Nege.” “En jou dogtertjie? Pragtige kind.” “Sy is sewe.” “En dan ook die kleintjie. Dis ’n handvol, nè?” “Ja, is nogal.” “Ek het ook so ’n spannetjie gehad. Ek onthou hoe ek party dae gevoel het ek gaan nooit weer iets anders doen as kosmaak, skoonmaak en pakgee nie.” Dis beter, dink Salomé, terwyl sy net knik en glimlag, laat haar maar praat oor haarself. “En jou man? Wat doen hy?” Die vrou wys na haar trouring. Hy vlieg, dink sy wrang. Hy vlieg die hele wêreld vol en help die verlore mensdom terwyl ek en die kinders alleen moet regkom. “Hy werk by ’n wêreldsendingorganisasie.” “O?” vra die tante belangstellend. “Wat behels sy werk?” “Hy moet sendelinge en gemeentes in die geslote lande gaan besoek en bemoedig en help waar hy kan. Dis waar hy nou is. Hy moet ook kerke plaaslik mobiliseer om Christene in geslote lande te ondersteun.” “Sjoe, dis seker ’n uitdaging.” “Ja.” “Vir julle albei,” sê die tannie deernisvol. “Ja.” Salomé se oë skiet ongevraagd vol trane. Sy is so moeg, sy wil sommer op
hierdie bankie lê en slaap. Die tannie neem haar hand versigtig in haar verrimpelde een. “Daar is geen beter werk as werk in diens van die Here nie,” troos sy. Salomé verstyf en wil haar hand terugtrek. “Maar dit wil jy nie nou weet nie, nè?” vra sy met ’n sagte glimlag en begrip in haar stem. “Nee,” antwoord Salomé eerlik. “Ek weet.” Salomé kyk vraend na haar. Hoe weet sy? “My man was ook ’n sendeling. Ek ken ’n bietjie van die weduweelewe ter wille van die evangelie. Maar wanneer ek terugkyk, weet ek dit was die moeite werd.” Salomé is stil. Sy haat die woord “sendeling”. Dit maak van haar ’n “sendeling se vrou” en van daardie prentjie het sy nog nooit gehou nie. Sendelinge is mense wat van ander mense afhanklik is. Hulle staan bakhand en leef van ander se tweedehandse goed. Die vroue dra lang rokke oor vormlose lywe met leersandale. Sy is nié ’n “sendeling se vrou” nie, het sy lankal besluit. “Maar jy het mense nodig wat vir jou bid, net soos jou man mense nodig het wat vir hom bid,” onderbreek die tante haar gedagtes. “Wat vanaand met julle gebeur het, was ’n aanval van die bose. Is daar mense wat vir jou bid?” Salomé dink na oor wat die tante gesê het. “Ek dink die mense wat vir my bid, bid net dat my man asseblief tog moet huis toe kom.” “A.” Die tante knik. “Dus nie noodwendig binne die wil van die Here nie?” Salomé bly weer stil. Sy weet nie meer wat die wil van die Here is nie. Is dit sy wil dat sy so moet swaarkry op haar eie? “Is jou ouers naby dat hulle jou kan ondersteun?” “Nee, hulle bly gelukkig in Bloemfontein.”
“Gelukkig?” Die “gelukkig” het uitgeglip. Sy is te moeg om voor te gee. “Hulle neem Petrus kwalik vir sy buitelandse reise en dit plaas net nog meer druk op my. Dan moet ek hom altyd verdedig teenoor hulle en maak asof ek heel goed die mas opkom.” “Ek verstaan. Jou skoonouers?” “Hulle voel sommer namens Petrus skuldig vir al sy reise en is baie dierbaar, maar hulle bly in die Kaap. Ons gaan kuier gewoonlik in die Desembervakansies daar.” “Ek sien.” Huiwering. “Mag ek dan vir jou bid?” “Hier?” vra Salomé vinnig. Die tante lag effe. “Ek kan hier ook vir jou bid as jy wil, maar ek sal verkies om op langer termyn vir jou in te tree?” Salomé knik en haal haar skouers op. Dit kan seker nie skade doen nie. “Wat is jou naam?” “Salomé. Salomé Pretorius.” “Ek is Marié van Biljon,” sê sy en druk haar hand. Daarmee is die transaksie afgespreek. “Ek moet so ’n bietjie meer weet, Salomé.” “Vra gerus,” sê Salomé, nie meer onaangeraak nie. “Hoe het jou man sy roeping gekry?” Maggies, dit klink so formeel vir wat daardie tyd gebeur het. ’n Roeping? Ja, miskien tog. “Ek weet nie mooi nie,” antwoord sy eerlik. “Dit het stelselmatig gebeur. Tog oornag,” dink sy terug. “Ons was al verloof toe Petrus as deel van sy finale jaar se teologiestudie op ’n uitreik moes gaan. Hulle is na die Midde-Ooste op ’n gebedsuitreik; hy het daar sy hart verloor.” Sy glimlag sinies.
Destyds het sy gedink dit gaan so anders uitwerk. Hy die dominee en sy die musiekjuffrou wat iewers op ’n klein dorpie ’n beroep gaan aanvaar. Hy het egter totaal begeesterd van daardie uitreik af teruggekom. Sy het die ses weke wat hy weg was, omgewens en by die Here gehuil en gesmeek dat hy veilig moes terugkom sodat hulle lewe saam kon begin. Sy moes seker daarna al besef het hoe dit gaan wees, maar sy het nie. Ai, sy was so verlief op hom. Die groot man met die groot hart wat die wêreld wou verander. Sy was aanvanklik baie bang dat hy haar gaan wegneem na ’n woestyn iewers in die Midde-Ooste. Dat sy daar sou moes babas grootmaak in tente in die warm son terwyl hy die evangelie met manne in rokke deel. Hy het geglimlag vir haar vrese, maar was baie ernstig toe hy praat. “Dis glad nie so daar nie, Sally. Ons hier in die Weste dink soms verkeerdelik dat dit nog lyk soos in die tyd van Jesus. Dit is ’n wêreld van groot uiterstes. Aan die een kant is daar die groot wêreldstede soos Doebai. Blink stede, van klatergoud, danksy al die olie wat hulle boor. Dan is daar ook die verarmde man wat in die stofstrate met ’n vrugtestalletjie sy bestaan maak. Dit gaan oor ons ‘prentjie’ van daardie wêreld wat verkeerd is. Ons dink óf aan die ryk Arabiere met harems in die woestyn, óf aan fanatiese Moslems met moord op die brein, óf dat die mense nog op kamele ry en heeldag dadels eet. Dit is op ’n manier al hierdie dinge, maar tussenin is soveel meer. Ek het die man op straat gesien, Sally. Soms stofstrate met kamele en diere op straat, ja. Soms op die snelweë van blink stede, maar dit was mense, Sally, mense soos ek en jy. Mense wat verlore gaan sonder die evangelie. Mense vir wie God ontsettend liefhet, duisende, duisende mense! Hulle ken net vir Allah, die god van Mohammed. Ek het bonatuurlik iets van God se liefde en meegevoel vir hierdie mense ervaar. Ons moet hulle gaan vertel van Jesus en die vryheid wat Hy bring. Hoekom, in al my jare van teologiese studie, het niemand die dringendheid hiervan onder ons aandag gebring nie?” het hy uitgeroep. Daar was ’n vasberade lig in sy oë. Haar pa het haar egter gerusgestel oor die hele sendingbesigheid: “Dit sal gou afkoel,” het hy gereken. “Dit moet net eers ’n bietjie uit Petrus se gestel kom. Maar hy gaan nie my dogtertjie halfpad om die aarde na ’n land vol goddelose Mohammedane vat nie. Daar is nie ’n manier nie.” “Petrus het in plaas van om ’n beroep te aanvaar, aansoek gedoen vir ’n voltydse betrekking by ’n sendingorganisasie,” hervat sy teenoor tannie Marié. “Hy het dit dadelik gekry en opgewonde begin werk. Só het hy die vervolgde kerk leer ken en geweet dit is die Here wat hom roep om te dien. Hy moes toe al dikwels
reis, maar dit is anders as ’n mens nog nie kinders het nie.” Sy het haar ingegrawe by die nuwe skool en die buitemuurse aktiwiteite. Sy wou so graag die skoolhoof beïndruk met haar flukse werk. Boonop het hulle grootliks van haar salaris gelewe en sy wou seker maak sy kry ’n permanente pos. Sy het intens na Petrus verlang in daardie tyd, maar het haar later net emosioneel van hom afgesny wanneer hy weg was. Dit was makliker. Sy het vir elke ding waarvoor die skool iemand nodig gehad het haar naam opgegee, net sodat sy nie alleen by die huis sal wees nie. Wanneer Petrus tuis was, was sy van voor af lief vir hom. Hy het haar hart elke keer weer gewen met sy liefde vir haar, en die vervolgde kerk oor wie hy so opreg besorg is. “Het jy soms saam met hom gereis?” vra tannie Marié versigtig. “Ja, ek was een keer saam na Doebai. Dit was nie ’n gebedsreis nie, eerder ’n tipe blootstellingsreis na die Midde-Ooste.” Sy was al ses maande swanger en haar boepie het gewys. Sy onthou hoe ongeskik die “godsdienstige” mans in hulle wit klere was. Haar sommer uit die pad gestamp. “En hoe was dit vir jou?” “Dit was ’n vreemde wêreld vir my.” Dit is so lekker om dit te kan sê sonder dat sy haarself hoef te verdedig. Haar pa was so kwaad vir Petrus dat hy haar tydens haar swangerskap saamgeneem het. Maar sy wou sien, sy wou verstaan, voor die baba kom. Daarna sou sy nie gou weer die kans hê nie. Tog was dit vir haar vreemd en sy het steeds nie heeltemal verstaan nie, maar sy kon dit natuurlik nie aan haar pa erken nie. “Die mense van daardie land was vreemd en veral die mans was baie ongeskik. Om eerlik te wees, ek kon nie heeltemal Petrus se ie vir hierdie mense verstaan nie. Ons het ook nie baie kontak gehad met plaaslike gelowiges nie. Weens die verhoogde sekuriteit daardie tyd was die risiko te groot vir hulle, dus kon ek nie heeltemal beleef wat Petrus dikwels ervaar wanneer hy die lande se plaaslike gelowiges besoek nie.” Tannie Marié knik instemmend. “Dus het jy nie dieselfde roeping as jou man ervaar nie?” vra sy versigtig.
“Nee,” antwoord Salomé nadenkend. Sy het dit nog nooit so verwoord nie. “Ek het nie. Maar Petrus het altyd gesê ek het die helfte nog nie gesien nie. Ek moes weer saamkom na ander lande, dan sou ek beter verstaan. Dit was moeilik met klein kindertjies.” “Ja, dit is baie moeilik.” Hulle is ’n lang ruk stil, elkeen in hulle eie gedagtes versonke. “Waar was Tannie se man ’n sendeling?” “O, baie lande. Meestal in die ou Oosblok-lande. Oos-Duitsland, Rusland en so aan.” “Sjoe.” Weer stilte. “Was Tannie dan saam?” “Nie van die begin af nie. Ek was ook eers tuis met die kinders. Later het ek besef dat dit vir ons beter is as ons almal bymekaar is.” “Maar hoe het Tannie gemaak met skole?” “Ek het gevoel hulle leer meer op die sendingveld as in die skool,” antwoord sy met ’n glimlaggie. “Ek het hulle maar self geleer, so op reis en waar ons ook al was. Soms het ons hulle by die plaaslike skole ingeskryf as die taal dit moontlik gemaak het. Dit het ons ook gehelp om deel van die gemeenskap te word. Ek het wel in hulle hoërskooljare weer baie tuis gebly sodat hulle hier kon skoolgaan.” “Maar het Tannie dan dieselfde roeping as Tannie se man ervaar?” vra sy die kruksvraag. “Nee, nie aanvanklik nie.” Sy kyk reguit na Salomé. “Maar later het sy roeping ook my roeping geword.” Sy sê dit met deernis. “O.” “Ek moes eers leer dat die Here my herder is en nie my man nie, Salomé. Dit was die eerste moeilike les. Daarna het baie ander gevolg.” Salomé neem dit in.
“Daar kom my man nou. Wat is jou nommer, dat ek jou kan bel?” Salomé voel sleg dat sy nooit gevra het hoekom tannie Marié hier is nie. “Is die oom siek?” “Nee, gelukkig nie,” glimlag tannie Marié en knipoog. “Hy dink net hy is nog een en dertig en nie een en sewentig nie. Hy het van ’n leer afgeval toe hy die dak se geute wou skoonmaak.” Salomé sien nou eers hoe die oom hinkepink. Sy gee haar nommer vir tannie Marié en stoor haar nommer ook op haar selfoon. “Ek dink God het toegelaat dat die oom van die leer afval sodat ek jou kon ontmoet,” sê tannie Marié toe hulle groet. “God laat werklik alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet en volgens sy besluit geroep is. Hou daaraan vas, my kind. Sterkte. Ek bid vir jou.” Die oom groet met ’n stywe handdruk en ’n lig in sy oë soos Petrus s’n. Hulle maak ’n mooi prentjie soos hulle uitstap, tannie Marié en oom Daan. Sy voel vreemd kalm toe die dokter haar roep om te sê dat Markus wakker is.
Toe is hy daar. Haar groot, sterk man staan hulle woonkamer se deurkosyn vol, hou sy arms na haar toe uit. Sy staan lank net so teen hom. Hulle sê niks nie. Hy lyk moeg. ’n Bekende vreemdeling; hy ruik na knoffel en speserye. Hy het sy baard laat groei soos dikwels wanneer hy na die Moslemlande reis. Hy vee verleë daaroor toe sy daaraan vat en dit haar krap. “Ek sal dit nou gaan afskeer, dan kan ek jou behoorlik soen. Ek het jou ontsettend gemis.” Hy druk haar weer teen hom aan. Skielik val die stilte hom op. Gewoonlik bestorm die kinders hom. “Waar is almal?” “Markus lê nog en slaap. Daar was ’n ongeluk. Lang storie, maar hy het ’n brandwond aan sy arm. Hy kan nie vandag skool toe gaan nie, want die dokter is bang vir infeksie.” “Wat het gebeur?” vra Petrus geskok.
“Die krag was af, toe moes ek op die gasstofie kosmaak.” Sy begin huil terwyl sy praat. “Alexander was al om my voete en toe ek die gaslampie probeer aansteek, toe … toe het Markus …” Nou huil sy volstoom. Hy hou haar net vas. “Toemaar, toemaar.” Hy vryf met sy groot hande oor haar hare. “Thea het die ander twee by die hospitaal kom haal,” huil sy teen sy bors. “Ek moet hulle nou gaan haal, anders gaan ons laat wees vir skool.” Sy is skielik lewensmoeg. “Dink jy nie ’n kind met ’n brandwond is genoeg rede om by die huis te bly nie? Vir een keer?” Dit klink so aanloklik. “Wat dink jy?” vra sy betraand. “Ek dink regtig die hoof sal verstaan,” praat hy teen haar vrese in. “Maar jy is hier? Kan jy nie na hom kyk nie?” “Ek kan. Maar ek dink jy wil liewer self hier wees, as ek reg is?” In die kol. Sy huil sommer weer vir sy deernis. “Ek sal die hoof bel en hoor wat hy sê. Ek sal sommer die ander twee ook gaan haal en aflaai, dan kry ek kans om hulle te groet voor skool.” Hy druk haar eers weer. “Ek het so verlang na julle.” “Toemaar, ek sal self die hoof bel. Gaan sit nou eers jou tasse by die wasmasjien, dan haal ek gou Talitha se skoolklere uit,” sê sy, kalmer noudat Petrus weer beheer oorgeneem het. Dit is hoe dinge hoort. “Hoekom gaan slaap jy nie ’n bietjie nie?” vra hy van die deur af.
’n Uur later word sy wakker van die veraf gelui van die telefoon. “Ja, Ma,” antwoord Petrus. “Ja, Ma. “Reg so, Ma.
“Nee, Ma, sy slaap.” Hy praat dus met haar ma – sy kan dit aan sy stemtoon hoor. Thea het haar seker gebel en nou is daar weer oorlog met Petrus. Arme man. Hy lui af en kom ingestap toe sy regop sit. “Is Markus al wakker?” “Nog nie, maar ten minste voel hy nie vir my koorsig nie,” stel hy haar gerus. “Dan het daar waarskynlik nie infeksie in die wond ontstaan nie. Dank die Vader.” Petrus knik. “Hoe voel jy?” “Net onmenslik moeg. Jy was lank weg hierdie keer.” “Ja, dit was lank, maar dit was ’n ongelooflike reis, Sally. Ek is net jammer julle kry so swaar hier.” Sy antwoord liewer nie daarop nie. “Wat sê my ma?” “Sy het my weer eens bedank vir my onbaatsugtige opoffering vir wêreldsending,” antwoord hy lig. “Ek is seker,” sê sy wrang. Hy kom sit by haar. “Wat het gebeur?” Sy wil hom nie straf met haar woorde terwyl sy vertel nie, maar sy weet ook hy moet weet hoe dit regtig gaan. Tussendeur huil sy en hy hou haar vas, maar maak haar nie stil nie. “Dit is ’n aanval, Sally, van die bose, op die mense vir wie ek die heel liefste in die hele wêreld is, om te keer dat ons voortgaan met die werk van die Here.” Sy kan sien hy is aangedaan. “Tannie Marié het ook so gesê.” “Tannie Marié?” Sy vertel van die tannie en haar aanbod om vir haar te bid.
“Wel, dis wonderlike nuus. Die Here is werklik getrou, Sally. Ek bid juis vir julle wanneer ek weg is dat die Here ook rondom julle mense sal plaas wat julle sal kan ondersteun.” Sy was seker hy bid vir hulle, maar dis tog lekker om te hoor. Sy koester sy nabyheid. “Nou vertel my wat het by julle gebeur? Dit maak die sleg by die huis altyd weer die moeite werd,” sê sy eerlik. “Ag, Sally. Ons kan so baie by hulle leer. Die mense daar dien die Here in die moeilikste omstandighede denkbaar. Die geheime gelowiges wat ons ontmoet het, vrees almal vir hulle lewe. Baie van hulle se name is op ’n lys by die owerhede. Die mans word in die tronk gestop en die vroue en kinders hoor so min van hulle daarna. Boonop word hulle gesinne dan gereeld ingeroep en vir ure ondervra en geïntimideer. Die samelewing isoleer hulle boonop sodat daar nie met hulle geassosieer word nie. Maar hulle staan vas in hulle geloof. Hulle klou daaraan soos aan ’n reddingsboei. Hulle kennis van die Bybel is dikwels só karig dat ek namens hulle bang is dat hulle geloof dit nie sal hou nie, dat hulle sal opgee en ingee. Daarom is hierdie opleidingskole wat ons daar van stapel stuur so belangrik. Ek wens jy kan hulle almal leer ken.” Markus kom in, hardloop na sy pa toe en gooi sy gesonde arm om sy nek. “Hallo, Pappa.” “Hallo, my bul.” Hulle druk mekaar styf vas en dit bring sommer trane na Salomé se oë. Sy pa is sy held. “Hoe voel jy, ou seun?” vra Petrus en kyk na sy arm in verbande. “Seer,” antwoord Markus, die pyn duidelik op sy gesig. “Ek glo jou,” antwoord Petrus simpatiek. “Hoekom is Mamma nie by die skool nie?” vra hy verbaas. “Want my oudste seun het seergekry.” Sy vryf oor sy hare.
“Regtig?” vra hy verbaas. Dit sny deur haar. “Natuurlik. Kom ek maak eers vir jou iets te ete, dan gee ek weer vir jou pynstroop, seun.” Salomé staan op om vir hom te gaan pap maak. Laat hy en Petrus maar ’n bietjie gesels. Terwyl sy pap maak, voel sy amper weemoedig. Dit is so reg om Petrus hier te hê, maar om te hoor van die werk wat hy doen, is ook so reg. Sy is so trots op haar “man van God” met die lig in sy oë. Sy moet onthou om dit weer vir hom te sê. Dit is dalk noodsaaklik dat hy dit hoor, veral ná haar ma se gesprek met hom vanoggend. “… maar Mamma het met Alexander geraas en ek dink nie dit was sy skuld nie,” hoor sy Markus sê net toe sy instap. “Dit was ’n ongeluk.” Hy is reg. Sy onthou nou sy het met Alexander geraas, arme kind. Nou voel sy weer skuldig. Petrus antwoord Markus nie daarop nie. “Alexander sit en TV kyk,” sê hy net vir haar. “Ek het nie die hart gehad om hom by die kleuterskool af te laai nie.” Sy knik en stap uit om met die kind te gaan regmaak. Sy gaan sit op die stoel se leuning by hom en vryf oor sy hare. Hy vat haar hand en haal dit van sy kop af. Gooi haar hand terug in haar skoot. Sy ignoreer die gebaar. “Dis lekker dat Pappa jou huis toe gebring het.” Hy sê niks. “Het jy lekker by tannie Thea gekuier?” Stilte. “Alexander?” Hy kyk net voor hom. Sy vat die afstandbeheer en druk die afknoppie. Hy is dadelik woedend. “Gee hier. Pappa het gesê ek mag kyk!” skree hy.
“Ek weet en jy mag kyk, maar Mamma wil net eers iets vir jou sê.” “Gee terug!” “Alexander,” druk sy deur. “Mamma is jammer dat ek gister met jou geraas het toe Markus gebrand het. Dit was nie jou skuld nie. Dit was ’n ongeluk. Mamma is jammer.” Hy kyk net vir haar en sy sien die trane in sy oë blink. Sy wil ook huil. “Mamma is baie jammer. Reg so?” Hy knik. Sy gee hom ’n drukkie, maar hy druk haar gou weer weg, verleë oor sy trane. Sy skakel weer die TV aan, maar bly op die leuning sit. Sy sit haar arm om sy skouers en hy druk dit nie weer weg nie. Bly net so by haar sit. Here, ek maak so droog op my eie, bid sy in haar hart. Help my met hierdie kinders. En hou asseblief vir Petrus nou eers ’n bietjie by die huis; dan is ek ’n beter mamma. En weer eens dankie dat Petrus veilig tuis is. Help Markus om gou gesond te word, asseblief, Here.
Hoofstuk 5
EDFU, NYLRIVIER. AUGUSTUS 2010
Die boot beweeg weer teen ’n rustige vaart verder met die Nyl op. Saleh kan haar net voorstel hoe die toeriste op die dek in die son lê en lees of die uitsig langs die Nyl bewonder. Dit is een van die toptoeristeaantreklikhede in Egipte. Die gewag maak haar egter mal. Sy wens die boot wil versnel. Haar kop bly vashaak by die gedagte dat hulle in die verkeerde rigting vaar. Hoe is dit moontlik? Lewe Ashraf nog? Is hy veilig? Sy wens sy kon hom bel en net weet of hy lewe. As hy die foon optel, kan sy dadelik neersit. Nee! Dis te gevaarlik. Miskien kan sy Farouk vra? As hy net sy selfoon kan laat lui tot hy antwoord. Maar dis gevaarlik vir Farouk ook. Dit sal hom verbind met Ashraf en dan sal hulle dalk vermoed sy is by Farouk. Nee, die risiko is te groot. Ek het nie ’n idee wat om nou te doen nie, Vader God. Maar ek vertrou U met my hele lewe. U het my tot hier gelei en U sal my verder lei. Daar kom ’n werklike vrede in haar hart. Een ding is seker, sy dink nie haar skoonfamilie sal haar in die teenoorgestelde rigting van Kaïro gaan soek nie. Almal sal seker verwag dat sy direk soontoe sou vlug. So dit is ’n uitstekende stand van sake dat die boot nie daarheen op pad is nie. Maar Aswan? Sy ken geen mens daar nie. Wat gaan sy doen? Farouk kom laatmiddag saggies in. Hy het weer ’n bord eetgoed saamgebring. Sy eet hongerig terwyl hy praat. “Daar is ’n groep Amerikaners aan boord. Toeriste. Hulle is Christene.”
“Hoe weet jy?” “Hulle bid voor ete en bid soms in ’n groot groep saam. Hulle is mos nie bang om te wys hulle is Christene nie. Blykbaar het hulle deur die hele land kom bid. Boonop vis hulle heeltyd uit of ek ook ’n Christen is.” “Wat doen jy dan?” “Ek glimlag maar net en hou my dom. Dis te gevaarlik om iets te sê. Maar ek het begin wonder of ons jou nie dalk saam met hulle kan laat verder reis nie, asof jy ook ’n toeris is?” Haar hart klop vinniger. “Hoe bedoel jy?” “Hulle gaan in Aswan ’n klomp besienswaardighede bekyk en dan per oornagtrein na Kaïro reis.” “Ja?” vra sy baie versigtig. “As jy vir een dag kan deel word van hulle groep en dalk per trein saamry, kan hulle jou in die bondel wegsteek?” “Maar dink jy hulle sal?” “Wel, hulle is Christene en daar is een man met wie ek moontlik eenkant kan gesels. Hy is die toerleier en dit lyk of ’n mens hom kan vertrou. Maar ek het jou toestemming nodig om jou storie te vertel.” Sy dink eers na. “Dink jy dit is veilig?” “Nee, dis nie veilig nie, maar dis die enigste oplossing waaraan ek nou kan dink,” antwoord hy eerlik. “Dankie, Farouk. Dit is gevaarlik vir jou ook.” Sy is stil. “Wanneer kom ons in Aswan aan?” “Die dag ná môre.” Sy het dus nie veel tyd nie. “Kan ek net eers bid daaroor en dan sal ek jou vanaand sê?”
“Goed. Ek sal ná ete weer ’n draai kom maak.”
Sy kan aan geen ander plan dink nie, dus stem sy in. “Goed, Saleh, ek sal kyk of ek vanaand alleen met die man kan praat.” “Dis baie gevaarlik vir jou as hulle uitvind dat ek hier is.” “Ek gaan nie sê jy is op die boot nie. Ek gaan net noem dat ek iemand ken wat in Kaïro moet kom en dan in breë trekke jou storie vertel.” “Ja, dis slim.” “Maar kom ons kyk eers wat hulle antwoord is. Ek laat weet jou sodra ek hoor.” Sy bid vir Farouk terwyl hy weg is. Vir sy veiligheid, vir haar eie en haar baba s’n en dat God se wil sal geskied. Sy wens sy het ’n Injeel by haar gehad dat sy kon lees en ’n antwoord kon soek. Maar Ashraf het gesê dit is te gevaarlik om hulle kopie van die Nuwe Testament in te pak na sy ouers toe. Sy het saamgestem. Sy bid weer vir Ashraf.
“Hulle stem in,” bring Farouk later die nuus. “Sjoe, rêrig?” Sy het min geslaap in afwagting op die antwoord en al die “wat as?” wat sy teen mekaar afgespeel het. “Kort voor hulle reis hierheen het iemand kop uitgetrek nadat alles betaal was. Dus is daar ’n ekstra betaalde treinkaartjie. Jy sal wel met iemand ’n kajuit moet deel. Die trein hou deur die nag op party stasies stil, maar daar word nie nog mense aan boord geneem nie. Ek dink dus dat dit ’n veilige opsie vir jou is.” “Ja, Ashraf se familie sal my ook nie maklik uit Aswan verwag nie.” Sy is onseker opgewonde oor die uitkoms. “Ek sal my wel op Kaïro-stasie moet onsigbaar maak. Daar is oral oë.” “Ek het gedink ons moet jou ’n bietjie vermom.”
“Hoe?” “Hier is ’n winkeltjie op die boot. Hulle verkoop allerhande tipiese toeristeklere. As jy dalk genoeg kontant het, kan ek vir jou ’n T-hemp koop, en ’n serp of ’n ding, dat jy meer soos ’n toeris kan lyk.” “Dis ’n uitstekende plan; ek kort juis skoon klere,” glimlag sy wrang. “Maar hoe gaan jy verduidelik waarom jy vroueklere koop?” “ ’n Geskenk vir my vrou of so iets. Ek sal aan iets dink.”
Hy daag op met ’n T-hemp met kameelprente daarop, ’n pet en ’n tradisioneel geborduurde Arabiese hemp waarvoor veral die toeriste baie lief is. Saleh is baie dankbaar vir die skoon klere. Haar senuwees knaag egter as sy dink aan wat voorlê. “Hoe het jy gedink gaan ons dit doen, Farouk?” “Jy moet môreoggend vroeg gereed wees, want ek sal jou kajuit eerste moet skoonmaak, voor die ander mense uit hulle s’n trek. Een ekstra stel lakens en handdoeke sal nie aandag trek tussen al die wasgoed nie. Dan moet jy ongelukkig wag tot almal uit hulle kajuite getrek en hulle uitstaande rekeninge betaal het. Net voor ons aan wal gaan in Aswan, sal ek jou kom roep. As jy jou toeristeklere aantrek, behoort jy saam te smelt met die bondel. Soos hulle uitbeweeg, beweeg jy saam. Moenie oogkontak maak met enige van die ander personeel op die boot nie en bly in die bondel. Die toerleier weet van die reëlings. Hulle sal jou dan saamneem in hulle toerbus en later na die oornagtrein.” “Sjoe, jy’t aan alles gedink.” “As dit uitwerk, dan sê ons vir Isa dankie. Dan was dit sy plan.” “Amen.” “Ek moet nou gaan. Ek bring hopelik later vir jou iets te ete.” “Miskien moet ek liewer vas en bid.”
“Jy kan nie jou baba laat vas nie. Jy kan bid, maar ek bring vir jou kos. Ons weet nie wat lê vir jou voor nie.” “Nee, ons weet nie. Ek vat maar een dag op ’n slag.”
Sy slaap min en is vroeg op. Toe Farouk aanklop, kyk hy haar goedkeurend aan. Met haar hare in ’n poniestert deur die pet gehaak en die T-hemp met die kamele op, lyk sy soos die ander toeriste. “Het jy nie dalk ’n sonbril nie?” “Nee, ongelukkig nie.” “Kyk of jy vandag een kan koop. Dit gaan jou help.” Die lakens is reeds afgetrek en sy hou hom dop terwyl hy die kamer van hoek tot kant gereedkry vir die volgende gaste. Hy is ook senuweeagtig, kom sy agter, al werk hy met geoefende hande. Sy haal geld uit vir die klere en die water wat sy gebruik het, en nog ekstra. Die oomblik het aangebreek dat hulle moet groet. “Farouk, ek het nie genoeg woorde nie.” Hy kyk haar met deernis aan. “Jy het nog baie hekkies om te oorkom. Ek is bly dat ek jou met hierdie een kon help.” “Mag ons Vader en God jou en jou familie seën.” “Dankie, Saleh. Ek sal aanhou bid dat jy en Ashraf mekaar lewend vind,” sê hy ernstig. “Dankie,” sê sy sag, aangedaan. “Maar nou kan ons nie foute maak nie. Jy wag hier tot ek jou kom roep. Dit kan nog ’n uur of twee neem. As ek nie kan roep nie, sal ek drie keer aan die deur klop. Moet my nie groet of laat blyk dat jy my ken nie. Stap reguit deur tot in die
portaal met jou sak en probeer so gou moontlik in die middel van die groep kom.” Sy knik. “En moet asseblief nie op die bed sit nie. Dit moet lyk of die kamer onaangeraak was.” “Reg so.” “Vrede vir jou, Saleh.” En toe is hy uit.
Sy is gedaan gewag en baie senuweeagtig toe die klop uiteindelik kom. Met ’n laaste skietgebedjie maak sy seker dat sy niks in die kamer agterlaat nie en stap regop uit. Dit moet lyk of sy presies weet waarheen sy gaan. Sy loop verby Farouk in die gang waar hy die waentjie met wasgoed stoot. Hy kyk nie op nie en sy kyk nie om na hom nie. Haar oë soek die pad van ’n paar nagte gelede, wat voel soos ’n ewigheid terug. Alles lyk anders in die daglig. Skeller. Vyandig. Sy hoor die stemme van onder kom. Een stel trappe af en toe is daar ’n geroesemoes in die voorportaal. Geen tyd vir weifel nie; sy stap reguit af en sonder om iemand in die oë te kyk gaan staan sy in die middel van die groep jolige Amerikaners. Dit voel of alle oë op haar gerig is en tog gaan almal om haar hulle gang. Sy hou haar oë op ’n pamflet wat sy uit die kajuit geneem het. Dit is vol advertensies van besienswaardighede in Aswan. Sy ken dit al van binne en buite, maar sy hou haar oë belangstellend daarop gerig. Haar hart klop met swaer slae in haar borskas. Wanneer gaan die deure oop? Ná wat soos ’n ewigheid voel, tree een van die personeel uiteindelik nader en maak die deur oop. Die vars buitelug wat instroom, maak haar lighoofdig. Almal begin nader bondel om na buite te gaan. O genade, die personeellid groet elkeen by die deur persoonlik! Sy neem stelling in regs van iemand anders sodat hy tussen haar en die man by die deur sal wees. Miskien kan sy net verbyglip. Hulle beweeg stadig vorentoe, tree vir tree. Dit voel of sy gaan flou word toe die
mense voor hulle groet en hulle die volgende gaste by die deur is. Sy sal nie ongesiens kan deurglip nie. Toe hoor sy Farouk se stem. Die man by die deur kyk dadelik op na waar sy naam geroep is, sy aandag ’n oomblik afgelei. Sy glip deur. Hou aan stap oor die brug, stap agter al die mense wat in ’n tou beweeg na die toerbus en kyk nie om nie. Dankie, Farouk! roep haar hart terug. Sy is by die bus en klim in. Sy sien gesigte wat na haar kyk, maar sien in werklikheid niks nie. Sy stap tot amper agter en glip by ’n leë sitplek in. Haal uiteindelik weer asem.
Die dag word ’n nagmerrie. Saleh is omring deur mense met sulke goeie bedoelings, maar dis asof hulle nie besef dat hulle met al die aandag wat hulle aan haar gee meer kwaad as goed doen nie. Eers was dit die toerleier, wat toe almal uiteindelik in die bus sit, oor die mikrofoon aankondig dat hulle “geloofsheldin-gas” nou saam met hulle op die bus sit en dat hulle almal vir haar moet hande klap. “Kom ons almal heet Sally welkom!” Dit is die naaste wat die Amerikaner se uitspraak aan “Saleh” kan kom. Sy het gewens dat sy onder die bus se banke kan inkruip. “Sally, staan asseblief op sodat ons almal jou kan sien.” Sy het haar kop geskud en met ’n verleë glimlag probeer wys dat dit nie is wat sy wil doen nie. “O, sy is skaam,” het die toerleier gelag. “Kom ons gee haar nog ’n rondte applous!” Hy het in breë trekke verduidelik hoe sy vir haar familie vlug en dat sy die volgende dag en nag saam met hulle sal deurbring. Nog applous. Saleh het behoedsaam in die rigting van die busbestuurder gekyk, maar hy het
net stip voor hom uitgekyk. Sy kan maar net hoop dat hy nie die Amerikaners goed verstaan nie. Maar hy sal sekerlik, want hoe anders neem hy hulle rond? Dadelik het die eerste persoon langs haar kom inskuif en haar begin uitvra. Skielik was sy omring deur ’n klomp belangstellendes. Sy word die verpersoonliking van al hulle verhoorde gebede. Hulle kan huis toe gaan en van hulle wonderlike reis na Egipte vertel en dat hulle hierdie arme swanger vrou ontmoet het wat moet vlug vir haar lewe en dat hulle haar weggesteek het en help vlug het. En wat dan? Sal hulle net weer vergeet? Gee hulle regtig om of wil hulle net helde in hulle eie verhaal wees? Sy wil nie ongeskik wees met haar weldoeners nie, maar die hele saak steek haar so dwars in die krop dat sy bot en teruggetrokke is. Elke keer wat hulle uitklim om na ’n besienswaardigheid te gaan kyk, wens sy dat sy in die veiligheid van die bus kan bly, maar sy is versigtig vir die busbestuurder. Dus klim sy uit en probeer so ongesiens moontlik tussen die groep beweeg. Tevergeefs. Almal wil deel hê aan die suksesstorie van die Egiptiese Christenvrou wat vlug, dus gesels hulle juis met haar en haak by haar in, sleep haar van stalletjie na stalletjie. Op die ou end is sy seker sy trek baie meer aandag as wanneer sy net tussen hulle sou beweeg en met niemand praat nie. Die Amerikaners is opvallend en luidrugtig. Sy wil so graag ’n SIM-kaart en ’n sonbril koop, maar is versigtig om die begeerte te noem, want dit voel of hulle dan eers op loop sal gaan. Agter in die groep loop ’n ouer vrou. Hoewel sy vriendelik vir Saleh glimlag, kan sy sien dat sy haar amper eenkant hou. Saleh vermoed sy loop en bid soos hulle van plek tot plek beweeg. Sy kry dit oplaas reg om haar los te maak van die gebondel en langs die dame te stap. Dit is stil tussen hulle, wat ’n welkome verligting is. “Sjoe, dis seker vir jou intimiderend?” sê die vrou later vriendelik. “Nogal,” antwoord Saleh met ’n skewe glimlag. Hulle stap weer in stilte verder. Uiteindelik kan Saleh haar omgewing ’n bietjie bekyk. Aswan het meer ’n Afrika-atmosfeer; die pas is veel meer ontspanne en stadiger as in Luxor. Hier is die Nyl op sy mooiste, gekus deur die koperbruin woestyn en granietrotse soos dit reeds eeue lank deur Egipte kronkel. Die lug is swaar van parfuum en speserye terwyl die wit seile van die feluccas rustig in die
bries wapper en vissermanne met blink bolywe geduldig hulle vangs afwag. Hulle stap in stilte langs die kaai af toe Saleh die moed bymekaarskraap. “Sal jy my dalk kan help om ’n sonbril en ’n SIM-kaart by een van die stalletjies te koop? Ek durf nie self met een van die verkopers praat nie, want hulle sal dadelik agterkom dat ek Arabies praat.” “Natuurlik sal ek jou help.” Saleh oorhandig geld aan haar en gou sien hulle ’n stalletjie. Die vrou onderhandel behendig met die verkopers en kom teruggestap met die sonbril. “Dis nie jou eerste keer hier nie?” sê-vra Saleh. “Nee,” glimlag sy goedig. “My hart is op ’n manier verbind aan hierdie land.” “Dankie vir die bril; dit help my om my beter as toeris te kamoefleer.” “Groot plesier. Ek is egter nie seker waar om die SIM-kaart te vind nie?” “Ek sal uitkyk vir ’n winkel en jou wys, dankie,” antwoord Saleh. Hulle vind dit gou en Saleh is so verlig, sy kan nie wag om op die bus te kom en te probeer bel nie. Sy gaan sit hierdie keer by die vrou agter in die bus. “Wat is jou naam, as ek mag vra?” “Ruth.” “Dankie, Ruth, jy het my baie gehelp.” “Plesier. Ek is bly ek kon.” Saleh se hande bewe terwyl sy die SIM-kaart in die foon steek. Sy skakel die foon aan. Durf sy hom nou bel? Nee, netnou kan hulle agterkom waar sy is en dan het hulle ’n hele dag om haar hier op te spoor. Sy sal vanaand bel, net voor die trein vertrek. Dan weet sy hulle sal haar nie meer in Aswan kan opspoor nie. Sy wens die ure verby en is dankbaar vir die stil kameraderie tussen haar en Ruth.
Uiteindelik breek die tyd aan dat hulle na die treinstasie toe moet gaan. Saleh is verlig en vreeslik senuweeagtig, alles gelyktydig. Op stasies is baie oë en ore en sy is op haar hoede. Sy is oneindig dankbaar toe sy in die trein is en die portier haar en Ruth hulle slaapkajuit wys. Dit is baie klein en sy voel verleë dat sy Ruth se persoonlike ruimte deel. Maar Ruth glimlag gerusstellend. “Dis ’n voorreg om met jou te deel.” Saleh dring daarop aan om op die boonste bed te slaap, ten spyte van haar boepie wat dit moeilik maak om op te klouter. Sy kan nie die ouer vrou laat bo slaap nie. Hulle eet in stilte ’n voorafverpakte aandete. Saleh is dankbaar vir elke bord kos en drinkgoed wat vandag ruimhartig na haar kant toe gestroom het. Sy kry nou skaam vir haar bot houding. Hierdie mense is baie goed vir haar. Toe Ruth ’n oomblik uit die kajuit is, skraap sy die moed bymekaar om haar selfoon aan te skakel. Haar hart klop in haar keel by die vooruitsig om Ashraf se stem te hoor. Dalk het hy lankal gevlug, wag hy reeds vir haar in Kaïro en weet hy nie waar sy is nie. Sy skakel sy nommer versigtig. Die foon lui egter nie en skakel net direk na die antwoorddiens oor. Die teleurstelling is so groot, dit voel of sy in trane gaan uitbars. Sy probeer weer en weer. Só vind Ruth haar. In trane met die foon in haar hand. “En nou, Saleh?” Sy trek die deur agter haar toe. “Ek is so bekommerd oor my man en wonder of hy nog lewe,” fluister sy. “Ag, jou arme ding,” sê Ruth sag en simpatiek en gee haar ’n druk. Toe begin Saleh se trane soos ’n kraan loop. Dae se spanning wat net te veel geword het, loop oor. Ruth hou haar vas en laat haar huil. Sy sê niks nie, behalwe om saggies ’n gebed te prewel. Saleh mis skielik haar ma. Uiteindelik kom die trein in beweging. Verligting spoel deur Saleh. Sy bedank Ruth skaam en maak haar bed gereed. Nou wil sy net slaap en hierdie nagmerriedag uitwis.
Die trein is egter gevul met die vrolike energie van ’n klomp toeriste wat ’n nuwe avontuur beleef. Nie een van hulle was al op ’n oornagtrein in Egipte nie. Saleh ook nie. Dit is iets wat net vir toeriste bestem is. Sy ervaar egter glad nie opwinding nie en hoop om gou te kan slaap, ten spyte van die vreeslike lawaai. Baie later word dit stil, maar die slaap bly Saleh ontwyk. Sy sluimer in en word weer wakker. Voel die oneweredige geskommel van die trein. By elke stasie waar die trein in die donker nag stilhou, verbeel sy haar dat haar skoonfamilie opklim met masjiengewere om haar te soek. Dan lê sy bewegingloos en haal skaars asem tot die trein weer vertrek. Haar lyf is seer van die ongemaklike slaapbank en die spanning van die dag. Sy sluimer weer onrustig in.
Hoofstuk 6
PRETORIA. AUGUSTUS 2010
Die dae glip vinnig weer in die gewone ritme terug. Dis so reg as Petrus tuis is, dan funksioneer hulle weer soos ’n normale gesin. Petrus gaan elke dag kantoor toe en saans ontwerp hy webtuistes vir ’n ekstra inkomste. Sy is weer baie besig met die skoolaktiwiteite. Die revue-optredes begin volgende week en die kunswedstryd is om die draai. Sy is dankbaar dat Markus se arm so goed herstel. Die dokter reken dat daar nie eens letsels sal oorbly nie. As Petrus tuis is, gaan dit ook goed met Alexander en daar was nog nie weer enige vuurwerke nie. Talitha gaan stil haar gang. “Ek gee Sondag by ons gemeente terugvoer oor die laaste gebedsreis,” kondig Petrus aan. “Kindertjies, julle moet asseblief help dat ons betyds is.” “Ja, Pappa,” koor hulle. Salomé trek haar wenkbroue op. “Hoe lank het jy hierdie keer geleentheid om te praat?” “Vyf minute,” antwoord Petrus afgehaal. “Maar dis darem iets.” Sy skud haar kop en kyk simpatiek na hom. Petrus se grootste werkfrustrasie is sekerlik dat baie van die kerke doof is, of verkies om te wees, vir die nood van die gelowiges in ander lande. Hulle het al soveel daaroor gefilosofeer. “Mense het seker te veel probleme van hulle eie en wil nie van ander s’n ook hoor nie,” het sy probeer troos. “Ek is nie onsimpatiek teenoor mense se probleme nie, Sally. Ek weet die lewe is dikwels ’n gekompliseerde en moeilike plek. Maar dis nie ’n verskoning om nie
te wil hoor nie. Dit is juis goed om ons probleme in perspektief te sien. En ja, ons probleme sal sekerlik meer en meer word, as ek die Woord reg verstaan, maar ons het soveel te leer by die gelowiges wat alreeds hierdie pad gestap het.” Daar was die geleentheid toe Petrus by ’n megagemeente wou praat. Die kerk se antwoord was dat hulle in die “welvaartsteologie” glo: Die Here wil sy kinders met rykdom en gemak seën en kan nie glo die Here sal toelaat dat gelowiges so vervolg word nie. Daar moet sekerlik sonde in hulle lewe wees. Hulle het belowe om tog ’n geldelike bydrae te maak om die huidige nood te help verlig, waarop Petrus so kwaad geword het dat hy sarkasties gesê het hulle moet dit liewer gebruik vir hulle gemeente se nuwe bouplan. Dalk kan hulle lugverkoeling installeer, dat die mense nog gemakliker kan kerk hou? Salomé het hom lanklaas so kwaad gesien. “Wat dink hulle?” het hy gebelg gesê. “Het Jesus in lugverkoelde kerke met gemakstoele gepreek? Het Hy hoegenaamd ’n huis gehad? Hy het in die veld geslaap en van mense se dankoffers gelewe. Is hulle nou beter as Jesus self?” Salomé het al geleer om net te luister. “Hoe kry hierdie kerke dit reg om net hulle harte te verhard en die nood van ons medegelowiges te ignoreer?” Hy kan dit nie regkry nie. Dit is ’n las waarmee hy elke oggend opstaan en elke aand gaan slaap. Dit is waaraan hy sy ure by die werk en op reise bestee, om die stem te wees van ’n kerk wat die wêreld wil stom hou. Elke keer spring hy weer vuur en vlam aan die werk en probeer manalleen die wêreld verander, net soos die Petrus van ouds. Hoe gepas is sy naam nie, het sy al dikwels gedink.
Petrus lyk altyd effe ongemaklik met ’n das om sy nek. Met sy groot postuur lyk dit steeds soos ’n dun vlag om die dik mas van ’n boot. Die kinders sit ook netjies gekam en aangetrek in ’n rytjie langs mekaar. Voorwaar ’n perfekte pastorieprentjie. Hoe anders voel die realiteit nie.
Uiteindelik is dit Petrus se beurt. Haar fors man met die nederige hart maak haar altyd trots wanneer hy praat. Sy vriendelike geaardheid wen meestal die gehoor vinnig. By hulle tuisgemeente is hy welbekend en geliefd, maar ook reeds in ’n boksie geplaas: “O, Petrus praat weer vandag oor ’n sendingreis. Ag, dis altyd ’n mooi storie.” Salomé glimlag bemoedigend vir hom en kyk onderlangs na die gemeente. “Liewe gemeente, daar is ’n paar maniere om hierdie spreekbeurt te begin: ‘Die oesland is groot en die arbeiders min,’ of ‘As een deel van die liggaam ly, ly almal.’ Maar hierdie Bybeltekste ken julle al uit julle kop, nè?” Die gewone gesigte knik belangstellend. Dié wat gewoonlik ’n geldjie bydra tot ’n sendingreis of hulle naam op die gebedslys sit. Die res se oë is afwesig. “Vandag gaan ek dus begin deur die volgende stelling te maak. Ons as gemeente en as kerk in die Weste, verpas die geleentheid van ’n leeftyd as ons nie betrokke raak by die werk wat God reeds in die Midde-Ooste doen nie. Nog nooit was die tyd so ryp en die omstandighede so gunstig om met die evangelie ’n impak te maak nie. Ons hoef nie meer motors volgepak met Bybels deur grense te smokkel nie. Ons het TV, radio, internet en wie weet hoeveel ander hulpmiddels. Ons kry die evangelie tot by die mense sonder dat ons eers self daar is. Maar die oesland ís groot en die arbeiders ís baie min,” sê hy ernstig. “Ons moet die klein persentasie vrywilligers waarop ons staatmaak om hierdie boodskap uit te dra, se hande versterk. Hulle werk met die minimum hulpmiddels om die evangelie te bring. Die Here is altyd getrou. Ons hoor weekliks getuienisse van hoe Hy die groei bewerkstellig. Maar daarna moet ons daardie kerk versterk en help groei. Ons moet hierdie kerk, ons jong sussie, se hand vat en haar leer uit die Woord en ons moet ons trots laat staan en toelaat dat ons jong sussie ons leer oor die pad van geloof. Want dit is waar: As een deel van die liggaam ly, dan ly ons almal saam. Ons het so baie te leer by haar.” Hy wys ’n paar skyfies van verskillende lande, noem statistiek en verduidelik aan die hand van wêreldgebeure waarom hy so sê. Die sangleier begin saggies in die agtergrond op die klawerbord speel; die teken dat Petrus moet klaarmaak. Sy sien die frustrasie oor sy gesig flits. “Dit is ons mandaat as kerk van God om sy evangelie na die verlore mensdom te bring. Ons broers en susters in die vervolgde kerk is gehoorsaam aan hierdie
opdrag, in dapperheid. Hulle doen hulle bes om te oorleef en die goeie nuus te bring, maar hulle smeek ons vir ons ondersteuning en gebede. Hulle het dit nodig dat ons hulle besoek en bemoedig. Ons mag ons nie doof hou vir hulle versoeke nie. Kom skryf dus jou naam op vir ’n gebedsbrief, gee geld vir hierdie werk en bo alles: bid. Moet hulle nie vergeet in julle gebede nie.” Toe hy weer kom sit, gee sy sy hand ’n drukkie. Hy kyk af na haar en sy sien sy bewolkte oë. Die predikant se boodskap is goed, maar bevat geen verdere verwysing na wat Petrus met die gemeente gedeel het nie. Was sy terugvoer net nog ’n item op die kerk se spyskaart van die oggend? Salomé wil ná die diens net in die motor klim en by die huis gaan wegkruip. Sy is kwaad vir almal en vir niemand in die besonder nie. Hulle moet egter bankvas in die voorportaal staan om met enige belangstellendes te gesels. Alexander rem aan haar hand en kerm luidkeels dat hy honger is. ’n Paar vriendelike gesigte kom skud hand en skryf hulle name op die gebedsbrief. Een of twee vra belangstellend verder uit na die werk. “Julle doen bewonderenswaardige werk, hou so aan,” koer ’n ander een. En nog een: “Bless julle, hoor, dis awesome!” Vriendelike, goed bedoelde woorde wat nie die diepte van die werk omvat nie. Of: “Ag, ek wens ek kon ’n keer saamgaan, maar my werk, kinders en finansies laat dit net nie toe nie.” Vroeër sou Petrus redeneer oor al die flou verskonings, maar hy het al geleer dat dit in elk geval nie ’n verskil maak nie en reageer dus nie meer daarop nie. Een man kom staan voor hulle. “Vir wat gaan foeter julle na ander lande terwyl hier in Suid-Afrika soveel nood is? En dan kos dit die kerk so ’n hoop geld. Reg op ons voorstoep gaan mense dood van die honger en dit sonder die evangelie.” “Jy’s reg, Meneer. Ek stem saam met jou dat ons beslis daaraan moet aandag gee. As dit op jou hart is, gaan vertel dit. Die Here gee vir ons elkeen ’n roeping,” kom Petrus se antwoord sonder ompaaie.
“Nee, ek is nie ’n sendeling nie. Julle vir wie die Here geroep het om sendelinge te wees moet dit doen. Boonop sê die Woord eers Judea, dan Samaria en dan die res van die wêreld,” haal hy die Skrif vry aan. “Nie die een of die ander nie, maar albei,” antwoord Petrus bondig. “Dit was ook die model van die eerste apostels en daarom mag ons mekaar nie kwalik neem as ons in verskillende areas werksaam is nie.” Die man stap sonder ’n verdere woord weg. Die volgende man wat op hulle afstap, betrap hulle onverhoeds. “Ek stem glad nie saam daarmee dat julle tyd en geld mors om na die Midde-Ooste te gaan nie. Ek lees tans ’n boek oor die miljoene mense wat oor die eeue heen deur Moslems vermoor is. Hulle is ’n klomp vloekstene en swerkaters.” Petrus het ’n oomblik nodig om sy selfbeheersing terug te kry. Salomé ken al die trek van sy mond. Die man moes al gedink het dat hy hom nie gaan antwoord nie, toe Petrus gevaarlik stil sê: “Islam is ’n godsdiens waaruit onnoembare pyn voortgevloei het, ja, Meneer. Maar Jesus het die Moslems ook lief en het vir hulle sondes gesterf net soos vir joune.” “Gmf,” snork die man en stap weg. ’n Stil, maer ou vroutjie stap ook nader. “Julle stories laat my dink aan die plaasmoorde hier. Dit gebeur elke week, maar niemand doen iets daaraan nie.” Sy skud haar kop hartseer. “Die Here moet ons almal genadig wees. Hoe durf ons ons oë wegdraai van soveel onreg. Ek sal vir julle bid.” Sy gee Salomé se arm ’n drukkie en stap moeisaam weg.
Hulle is stil toe hulle uiteindelik huiswaarts keer. Lamppale skree die nuus uit dat nog iemand vermoor en verkrag is en nog ’n bekende sanger sy vrou verneuk het. Die Wêreldbeker-sokkertoernooi het toe nie soveel geld ingebring soos wat daar gehoop is nie. Ons is ’n volk wat lamgeslaan word deur slegte nuus, dink Salomé. Voos maak sy koffie. Sak op die rusbank neer.
“Maak dit alles enige verskil, Sally?” Sy sê niks nie. “Maak nie saak wat ek sê nie, dit voel vir my die kerke bly horende doof.” Toe, as ’n nagedagte: “Jesus het dit twee duisend jaar gelede ook gesê.” “Dis darem nie almal nie, Petrus,” troos sy. “Jy’s reg, dis nie almal nie. Ek besef ook dat almal nie betrokke kan raak nie; elkeen het sy roeping. Maar daar is nog veels te veel wat nie betrokke is nie. Dit is aaklig om te voel dat jy die draer is van sulke ongemaklike nuus en dat niemand jou boodskap wil hoor nie.” Sy luister stil. “Ek wil nie ’n skuldlas op mense plaas nie, Sally. Dit sal so verkeerd wees om mense skuldig te laat voel en só ’n geldjie uit hulle te wurg. Bewaar my daarvan. Ek wil hulle net laat besef wat ’n geleentheid ons as kerk deur ons vingers laat glip as ons nie betrokke raak nie. Ek weet dat hulle nie weet wat ons mis nie.” Sy knik simpatiek. “Soms is ek lus en pak ons goed op en trek na die Midde-Ooste. Dan hoef ek niks te make te hê met die slapende kerke in Suid-Afrika nie.” Sy skrik. “Dan hoef ek nie vir soveel weke van julle af weg te wees nie. Dan is ons heeltyd bymekaar,” sê hy ievol. Sy dink aan hulle huis, die kinders se skool en haar werk en weeg dit op teen die onbekende Midde-Ooste. “Sally?” “Ek deel nie jou roeping nie, Petrus,” sê sy sag. Dit slaan hard. Hy sit terug op die leunstoel. “Ek is jammer. Ek wens dit was anders,” probeer sy opmaak.
“Dis nie jou skuld nie,” sê hy moedeloos. Die dag is bederf.
“Kom ’n keer saam met my, Sally?” vra hy die aand. “Ek was mos al saam met jou.” “Nee, ek bedoel op ’n gebedsreis, nie net ’n besigtigingstoer nie.” ’n Koue hand klem om haar keel. Sy het gedink hulle rolle is verdeel: Hy behartig die reise en die geestelike deel, sy pas die kinders op en hou die fort. “Wat van my werk en die kinders?” Sy weet sy klink soos die mense by die kerk en sy haat dit. “Ons kan dit in vakansietyd probeer reël en ons kan mos vir een keer iemand vra om ons uit te help met die kinders? Of nog beter, die kinders kan saamkom,” maak Petrus planne. “Volstrek nie.” Haar juffroustem. “Ek sal nooit instem dat jy my kinders na so ’n gevaarlike plek neem nie.” “Dis my kinders ook,” sê hy waarskuwend, hoewel redelik. “En Suid-Afrika is net so gevaarlik. Die mense in die Midde-Ooste kan nie glo dat ek jou en die kinders alleen in hierdie gevaarlike land agterlaat nie.” Sy dink aan die koerantopskrifte. “My ouers kry ’n oorval!” “Dis ons kinders, nie hulle s’n nie.” “Nee, Petrus, vergeet daarvan.” “Nou goed, ek onderhandel nou eers vir jou teenwoordigheid, U Majesteit,” sê hy ondeund. Hy gaan hierdie rondte wen, sy kan dit op sy gesig sien. Sy wonder of hy weet dat sy enigiets vir hom sal doen. “Petrus, ek weet nie, ek …”
“Ek wil hê jy moet verstaan en sien, Sally.” Hy is skielik weer baie ernstig. “Dis hoekom ek saam Doebai toe was en ek het steeds nie verstaan nie.” “Dan probeer ons weer. Ek sal probeer tot jy verstaan.” “Ag, Petrus.” “Sally, ek het Jesus in die Midde-Ooste in die vervolgde kerk leer ken op ’n manier wat ek Hom nog nooit in ons kerke beleef het nie,” sê hy intens. “Bedoel jy Hy is nie in ons kerke nie?” vra sy versigtig. “Nee, glad nie. Natuurlik is Hy hier. Maar dis anders. Hoe kan ek dit verduidelik? Dis daardie aspek van Jesus wat Petrus op die water laat loop het wat ek daar leer ken, Sally. Dit is Hy wat vir mense blinde geloof gee, dapperheid. God se vaderhart beleef ek so intens daar. Ag, en nog ’n duisend ander eienskappe van Hom!” roep hy uit. Sy is stil. “Ek wil so graag hê jy moet Hom en sy kerk ook so ervaar, Sally. Ek wil hê jy moet verstaan. Dink daaroor. Bid daaroor. Ek sal nie nou ’n antwoord vra nie, maar belowe my jy sal bid daaroor?” Sy kyk eers lank ernstig na hom. Hulle maak nie leë beloftes teenoor mekaar nie. Toe knik sy. Dit is vir hom baie belangrik. Dis meer as net die kinders wat sy vir ’n ruk hier sal moet agterlaat, of om haar ouers te moet vertel, of die vrees vir Moslem-mans wat blonde vroue ontvoer en deel maak van hulle harems, wat haar huiwerig maak. Dit is Petrus se wêreld wat haar intimideer. Sy haat elke werksfunksie. Haat die binnekring van sy werk waar almal lyk of hulle op ’n ander geestelike planeet as sy beweeg. Mense wat dae lank kan vas en bid en sy kry dit skaars vir een dag reg. Mense wat haar altyd so innig vriendelik groet, asof hulle in hulle gebedstyd die een of ander voorkennis oor haar by die Heilige Gees opgedoen het en dit nou in hulle koppe oor en oor maal terwyl hulle haar met iets soos simpatie betrag. Sy voel altyd heeltemal uit haar diepte.
Niks van haar vrese bespreek sy met Petrus nie. Sy wonder net in stilte oor die ure wat hulle in gebed bestee op so ’n reis. Sal sy dit kan doen? Sal haar klere reg wees vir die kultuur daar? Eintlik voel sy skaam dat sy ná al die jare wat hy al hiermee besig is eerder minder van die detail wou weet as meer. Sy is niks beter as die mense van die kerk wat hulle horende doof hou nie. Soos hulle is sy trots op Petrus, maar wil nie self haar hande gaan vuilmaak nie en sy vermoed hy weet dit. Sy verkwalik haarself daarvoor. Soms dink sy selfs dat hy met die verkeerde vrou getrou het. Nie oor sy nie vir hom lief is nie, maar bloot omdat sy nie die diepte van sy werk verstaan en sy ie deel nie. Sy wens sy was ’n beter vrou vir hom. Miskien moet sy tog saamgaan. Sy wíl God ook so ervaar soos hy sê. Maar wat van die kinders? Moet Petrus nie juis nou in hierdie seisoen by die huis wees en hulle help grootmaak nie? Versuim hy nie sy plig nie? Moet hy nie ’n beter man en pa wees nie? So begin haar gedagtes weer van voor af die sirkelgang en rol sy die hele nag daaroor rond. Die lewe gaan Maandagoggend volstoom voort. Sy jaag om betyds klaar te kry vir skool, dankbaar dat Petrus vir Alexander by die skooltjie gaan aflaai; dit spaar tyd. In die motor moet sy hoor dat Markus sy sportklere vergeet het. “Ag, Markus. Hoeveel keer moet ek vir jou sê dat dit jou verantwoordelikheid is om jou sportklere in te pak? Nou moet jy maar in jou skoolklere speel,” sê sy beslis. “Maar Mamma, ek het nie my krieketkolf of handskoene nie.” “Dis jou eie skuld,” sê sy met finaliteit, maar sy werk klaar uit wanneer sy ’n af periode het en dalk gou weer huis toe kan skiet. Nee, dit gaan nie uitwerk nie, want sy het gereël dat die revuehoofrolle hulle solo’s by haar kom oefen in daardie tyd. Deksels. Dirk kom tot Markus se redding. Hy het vroegoggend reeds ’n periode af en bied aan om gou te ry. Sy gee vir hom die huissleutel.
Dirk was effens bot toe hy terugkom, maar sy het nie veel daarvan gemaak nie. Haar aandag was by die kinders. Tuis loop sy egter vas in ’n buffel wat ’n rooi doek gesien het.
Petrus stuur die kinders na hulle kamers toe. “Van wanneer af het Dirk ’n huissleutel?’ “Ekskuus?” Sy is uit die veld geslaan. “Van wanneer af het Dirk ’n huissleutel?” vra hy weer ’n keer afgemete. “Hy het nie ’n huissleutel nie. Ek het myne vir hom gegee omdat hy Markus se krieketkolf kom haal het.” “En presies weet waar Markus se kamer is en sommer regdeur stap, so tuis is hy.” Terwyl Salomé verduidelik, word sy kwaad. “Hy is tuis in hierdie huis omdat hy al so baie goed moes kom regmaak wat my man nie kan nie, omdat hy in die buiteland rondflenter.” “Dan kry jy ’n handyman en betaal hom. Nie gunsies van Dirk nie,” sê hy smoorkwaad. Sy staan nie terug nie. “Ons kan nie ’n handyman bekostig nie, want my man is ’n sendeling,” spoeg sy vuur. Sy het te ver gegaan, sy weet dit. Maar maande en maande se alleen sukkel en dan so ’n insinuasie, laat haar rooi sien. Hy is so kwaad dat hy nie kan praat nie, kyk haar net met ysige oë aan. “Dirk is net ’n vriend wat my uithelp wanneer dit wild gaan by die huis en alles uitmekaarval en hier niemand is wat my kan help nie.” Sy huil nou. “Ek moet vir baie maande per jaar sonder jou regkom, maar ek was nie een dag ontrou aan jou nie. Nie fisiek of in my gedagtes nie. Ek moet jou verdedig so ver ek gaan, ek moet die vrugte pluk van kinders wat hulle pa mis. En nou dit? Nou verdink jy my?” Sy oë versag, maar hy is steeds kwaad. “Dit is nie snaaks om ’n vreemde man in my huis teë te kom wat my kind se krieketstel kom haal nie, Sally. Jy kon my gevra het om dit te doen. Ek is sy pa en ek is wel nou hier.” Sy het nie eens daaraan gedink nie. “Ek het gedink jy is kantoor toe.”
“Nee, ek het jou gesê ek het vanoggend ’n vergadering by ’n kerk hier naby en gaan eers daarna in kantoor toe.” “Ek het vergeet,” sê sy skuldig. “Luister dan wanneer ek praat.” “Wat het jy vir hom gesê, Petrus?” “Vir wie?” “Vir Dirk. Het jy hom ook uitgetrap?” “Nou is jy nog bekommerd ook oor die vent.” “Ek wil net weet of jy hom sleggesê het nadat hy my ’n guns gedoen het?” “Nee, ek het hom nie sleggesê nie; jy kan rustig slaap. Maar ek het hom nie bedank omdat hy in my huis ronddwaal nie.” “Petrus …” “Ek gaan draf,” sê hy toe hy by haar verbystap. Haar woorde het diep gesny, sy weet dit. Nog ’n aand is bederf.
Die volgende dag by die skool tel sy beslis ’n ongemaklikheid by Dirk op. Hoe om dit aan te spreek weet sy nie, want sy weet nie wat is gesê nie. Sy wil net huis toe gaan en in die bed gaan klim en slaap en slaap, so gedaan is sy. Daar is egter geen genade nie; die dag beur voort. Die middag kom Thea met die kinders kuier. Salomé het so baie werk om klaar te maak, maar hulle het lanklaas gekuier, dus laat sy niks blyk nie. “Wat het Petrus toe gesê?” “Van wat?” Salomé is op haar hoede.
“Die hele ongeluk, Markus se arm? Gaan hy nou meer tuisbly?” “Nee, hy sien dit as ’n aanval van die bose op ons huishouding. Hy sê dit is die vyand se manier om hom te keer om sy werk te doen.” Sy kan net raai hoe pateties dit in haar suster se ore moet klink – hierdie gesprekke waar sy probeer brûe bou tussen twee wêrelde. Haar suster rol haar oë. “Nou wat gaan dit vat om hom by die huis te hou? Moet ’n kind eers doodgaan?” “Hou op om so te praat,” keer Salomé kwaad. “Eerlikwaar, Salomé, ek weet nie hoe hou jy dit uit nie.” “Ek is heeltemal gelukkig, dankie.” Sy dink skuldig aan gister se bakleiery. “En dit was werklik onnodig om die hele storie teenoor Ma uit te lap.” “Jy lýk heeltemal gelukkig,” snip Thea sarkasties. “En Ma het die reg om te weet as haar kleinkinders seergekry het.” “En ek het die reg om vir Ma te vertel soos en wanneer ek goeddink.” “Nie as ons elke keer die kastaiings uit die vuur moet krap wanneer jou man nie hier is nie!” “As jy my nie wil help nie, sê so, dan vra ek iemand anders.” “Soos wie?” Skaakmat. Sy vertrou niemand anders met haar kinders nie. Sy het eerlikwaar nie eintlik vriende nie. “Kom ons praat oor iets anders, Thea. Ek is so moeg gebaklei hieroor.” Haar suster laat die onderwerp met moeite staan. “Nou goed. Hoe gaan dit met die revue?” Maar die kuier is reeds bederf en Salomé is bly toe hulle ry. Sy kan nie help om met ’n tikkie jaloesie te kyk na haar sussie se mooi motor waarmee sy na haar
spoghuis toe ry nie. Thea het dit so maklik, dink Salomé bitter.
Hoofstuk 7
KAÏRO. AUGUSTUS 2010
Ruth het vroegoggend vir Saleh gebid nadat hulle die slaapbanke opgeslaan het. Dit het haar rustiger gemaak, maar nou klop Saleh se hart in haar keel. Hulle het lank gesit en gesels terwyl die trein sy laaste skof uitploeg. “Wat gaan jy maak wanneer ons in Kaïro kom?” het Ruth besorg gevra. “Ek weet eerlikwaar nie.” “Kan jy nie saam met ons kom nie?” “Maar julle vlieg vanmiddag terug, nie waar nie? Net voor Ramadan.” “Ja, ons wil uit die land wees voor die vastyd aanbreek. Ons het egter kontakte in Kaïro wat ons kom afhaal by die stasie en vandag rondneem. Dalk kan hulle jou help?” “Christene?” “Ja.” “Koptiese Christene?” “Ja.” “Hulle sal my nie wil help nie.” “Hoekom nie?” “Ons MBB’s maak die lewe baie moeilik vir die Koptiese Christene.”
“Wat is MBB’s?” vra Ruth. “Muslim Background Believers.” “Hoekom maak julle dit vir hulle moeilik?” “Hulle lewe of kerke kom in gevaar die oomblik wat dit uitkom dat hulle skuiling aan ’n voormalige Moslem gebied het. Dit is teen die Islamitiese wette.” “Ek verstaan nie. Julle is tog almal Christene?” “Ja, maar die geskiedenis van ons land tel teen ons. Die Koptiese gelowiges is die oudste bestaande Christelike kerk in die wêreld. Omtrent tien persent van Egipte se bevolking is Kopties. Ongelukkig word hulle al vir jare swaar onderdruk deur die meerderheid Moslems. Dit is die filosofie van dhimmitude. Dit beteken hulle word toegelaat om te bestaan, maar word swaar belas en soos tweedeklasburgers behandel. Hulle kinders gaan nie saam met Moslemkinders skool nie, hulle kry nie beurse om te studeer nie en moet dikwels na die buiteland gaan vir verdere studie. Hulle sal ook nie maklik werk kry nie en moet dus hulle eie sakeondernemings begin. Daarom is hulle dikwels verarm en onderdruk. Hulle doen die slegte werk. In Kaïro werk en woon baie van hulle byvoorbeeld op ’n rommelhoop om die vullis te sorteer. Daar het hulle ’n hele gemeenskap en ’n kerk, wat die ‘garbagekerk’ genoem word. Was julle nie al daar nie?” “Nee, maar ek het gehoor ons gaan vandag daarheen.” “Ja, ek weet dit is gewoonlik ’n hoogtepunt van Christen-toeriste se besoeke. In elk geval, deur die jare het daar so ’n haat tussen die twee groepe ontwikkel, dat die Koptiese Christene sukkel om iemand uit die Moslem-agtergrond te vertrou, al het hulle tot bekering gekom.” “Tree die MBB-Christene dan nie anders op wanneer hulle tot bekering kom nie?” “Ja, maar daar is altyd die twyfel of dit opreg is, of hulle nie dalk spioene is nie. Dié wat wel die MBB’s in hulle midde verwelkom en aan hulle skuiling gebied het, se kerke of huise is al afgebrand, of hulle is gedreig met die dood. Jy moenie die wrewel van Islam onderskat nie.”
“Nou waarheen gaan julle dan om te aanbid, die evangeliese kerke?” “Daar is van die evangeliese kerke wat MBB’s ingeneem het, maar vir hulle is die risiko dikwels nog groter. Hulle het nie die outoriteit van die Koptiese Kerk agter hulle nie. Hulle is minder; daarom word hulle nog makliker aangeval. Ons aanbid maar in die geheim van ons huise, of saam met die enkele vriende wat ons weet ook ’n oorgawe gemaak het. Maar ons moet baie versigtig wees. ’n Mens weet nie eintlik wie die ander bekeerdes is nie. Selfs nadat ons mans tot bekering gekom het, gaan hulle steeds Vrydae moskee toe.” “Maar dis mos afgodediens!” “Moenie oordeel nie, Ruth,” sê sy driftig. “Jy weet nie hoe dit is om die enigste Christen te wees in ’n gemeenskap soos ons s’n nie. Ons word almal van kleins af juis teen shirk gewaarsku, om aan iemand anders as Allah goddelikheid toe te dig. Jy weet nie hoe dit is om elke dag bang te wees jou familie of vriende vind uit nie. Hulle wil ons summier doodmaak as hulle dit vermoed. Jy weet nie hoe dit is om lief te wees vir mense en hulle die waarheid van Isa te wil vertel om hulle lewe te red maar terselfdertyd vir jou eie lewe te vrees nie.” “Ek is jammer,” sê Ruth spytig. “Ons mans gaan moskee toe en bid op hulle gebedsmatte voor die mihrab wat die rigting na Mekka aandui, maar hulle harte is by Isa wanneer hulle bid. Ook wanneer hulle bid vir die ander mans rondom hulle. Het jy al die mans met die donker kolle op hulle voorkoppe gesien? Dis van die herhaalde gestamp van hulle koppe teen die vloer wanneer hulle bid.” Ruth knik. “My man het ook so ’n kol. Maar dit is ons behoud.” “Ek verstaan nou beter.” “In die stad is dit wel makliker om ’n gebed of wat by die moskee oor te slaan. Maar meer as dit gaan steeds nie ongesiens verby nie. Die imams ken hulle mense.” “Imams?”
“Die leraars by die moskees.” “Hoe bly julle dan staande in julle geloof?” “Dit is moeilik. Baie van die MBB’s keer later terug na Islam. Die eensaamheid en die druk van hulle familie raak net vir hulle te veel en dan ‘bekeer’ hulle hul weer tot Islam. Ek wens soms ons kan net na ’n diens van die kerke toe gaan, maar ek het nie die vrymoedigheid nie,” sê Saleh eerlik. Dis ’n rukkie stil. “Hoe het jy dan tot bekering gekom?” vra Ruth. “Ons het altyd geweet van die Koptiese Christene, maar ’n mens het hulle soos die pes vermy. Ons het met so ’n vooroordeel jeens hulle grootgeword. Dus is dit regtig ’n wonderwerk dat ek en my man tot bekering gekom het. Nadat ek gaan studeer het, het ek ’n werk gesoek en toe was hier buitelanders wat my in diens geneem het. Hulle het ’n kantoordame gesoek om die istrasie van hulle besigheid hier te behartig. Ek was gelukkig dat ek goeie Engels kon praat en skryf en ek het die pos gekry. My ouers was wel gekant teen die feit dat hulle Amerikaners was, maar ek was opgewonde. Mettertyd het ek besef dat hulle nie hier was om net sake te doen nie, maar ook ter wille van die evangelie. Hulle het my nooit daarmee gekonfronteer nie. Dit was eerder die stil en mooi manier waarop die man en vrou met mekaar gepraat het wat my so nuuskierig gemaak het. Dit en die feit dat hulle my gehelp het toe ek op my desperaatste was.” “Wat het gebeur?” Sy voel so op haar gemak by Ruth dat sy maar kan vertel. Boonop laat dit die tyd vinniger verbygaan. “Ek en my man was al ’n hele ruk getroud, maar ek het nie swanger geword nie. Dit is hier ’n baie groot skande vir ’n man om nie ’n seun te hê nie. Ons hele kultuur gaan oor skande en eer; iets wat ek besef die mense van die Weste nie altyd verstaan nie. In elk geval, ons het alles probeer. Ons het dokters gaan spreek, medikasie en behandeling wat ons ’n fortuin gekos het probeer. Maar niks het gewerk nie.” “En toe?” “Ek het eendag weer in trane by die kantoor aangekom ná nog ’n dokter se bevinding. Ek was so moedeloos en bang dat my man my sal verlaat omdat ek
nie vir hom ’n seun kan gee nie. Die vrou het na my toe gekom en gevra of sy en haar man nie saam met ons kan bid hieroor nie. Ek was so desperaat dat ek my man oortuig het om saam met my na hulle huis toe te gaan daardie aand. Hulle het die evangelie met ons gedeel en ons was so verras oor wat ons geleer het dat ons aand vir aand gegaan het om nog te hoor. Ons was so dors vir hierdie goeie nuus soos mense wat vir jare in ’n woestyn sonder water geloop het. ’n Groot struikelblok was egter dat Isa ’n Jood was. Ons is van kleins af geleer om die Jode te haat. Om te dink dat ’n Jood vir ons sondes sou sterf, was amper ondenkbaar.” “Ek kan dit net dink.” “Ná sowat twee weke het hulle gevra of ons al ’n oorgawe wil maak. Ons was baie bang omdat ons presies geweet het waarop ons ons rug sou draai. Ons het vir die volgende twee weke glad nie weer gegaan nie, maar elke aand met mekaar daaroor gepraat en geredeneer. Bedags het ons op webtuistes oor die Christelike geloof gelees en saans met mekaar gedeel wat ons gelees het. Ons was baie bang en baie opgewonde. Dit was so vreemd. Ek en my man was nader aan mekaar as ooit tevore. Toe waag hy dit een aand om tot hierdie Isa te bid. Ons het mooi geluister hoe ons vriende bid, maar om dit self te waag was ’n groot stap. Dit is glad nie dieselfde as die geleerde gebede van die Koran, die salat nie. Jy kon uit jou hart praat. Ek was bang daar kom weerlig uit die hemel en kloof ons woonstelgebou oop sodat die hele stad sal weet ons het gebid. Maar daar het nie. Daar het net ’n diep vreugde en ’n vrede in ons harte gekom. ’n Vrede wat ek nog nooit in my lewe ervaar het nie. Ná ’n paar weke is ons weer terug na ons vriende en ons het gesê dat ons gereed is om ’n oorgawe te maak. Hulle was oorstelp en het saam met ons gebid. Sedertdien het hulle ons uit die Injeel geleer.” Ruth frons verward. “Die tweede deel van die Bybel, hoe sê julle nou weer …?” “Die Nuwe Testament?” “Ja. Dit het gevoel of ons sweef vir dae, weke. En toe vind ons uit ek is swanger.” “Sjoe, so jou bekering was onlangs? Hoe ver is jy nou swanger?”
“Sestien weke, môre sewentien. Ek verwag die baba die negentiende Januarie.” “Jy het nou van jou skoonouers vertel. Maar wat van jou ouers?” “Hulle is oorlede kort voor ons troue. My ouers en my enigste broer was in ’n motorongeluk. My pa en my broer is op slag dood en my ma later in die hospitaal. Ek dink nie sy wou verder lewe nadat sy van hulle dood gehoor het nie.” Sy wat Saleh was, was nie genoeg rede vir haar ma om te wou lewe nie – sy was nie ’n seun, ’n man, ’n ma se trots nie. Diep binne het Saleh dit maar altyd geweet. Sy het eers later regtig getreur oor hulle. Later toe sy besef het hulle is dood sonder Isa. “Dankie dat jy my al hierdie dinge vertel het, Saleh,” sê Ruth ná ’n lang stilte. “Wanneer ek hier weggaan, kan ek met ’n baie beter begrip vir jou en julle land bid. En ek sal bid, dis my onderneming aan jou,” verseker Ruth haar in opregtheid. Saleh klou aan daardie onderneming vas, soos sy bang en onseker sit en wag dat die trein by sy bestemming aankom en haar uitspoeg. Dele wat te persoonlik was, het sy nie vir Ruth vertel nie. Van Uncle George se vrou, die liewe Sister Martha, wat haar eenkant geneem het die dag toe sy uitgevind het dat Saleh nie kan swanger raak nie. “Ek is jammer as dit ’n baie persoonlike saak vir jou is, maar ek moet jou vra, liewe Saleh, het jy ook khifad ondergaan, die vroulike besnydenis?” het sy met soveel deernis gevra dat Saleh nie geaffronteerd kon voel nie. “Ja, ek het, toe ek ’n jong meisie was,” het sy geantwoord en die trane weggeknip by die gedagte. Dit was normale praktyk dat meisies, veral vanuit die plattelandse dorpies, deur die prosedure gaan. Dit was die pynlikste en vernederendste ervaring van haar lewe. Die vrou voor haar se oë was skielik vol trane. “My liewe, liewe kind,” het Sister Martha oor en oor gesê terwyl sy haar vasgehou het.
Daardie eerste aand nadat hulle die evangelie met haar en Ashraf gedeel het, het sy en Uncle George die netelige kwessie weer opgehaal en met hulle gepraat. Hulle het vertel hoe dit in God se hart was dat ’n man en ’n vrou die liefdesdaad moet geniet en dat die besnydenis totaal teen sy wil en plan is. Blykbaar was daar ’n prosedure om, in sommige van die gevalle, die operasie om te keer. Dit was vir hulle albei nuwe nuus. Hulle het daarna dikwels met mekaar daaroor gepraat en toe besluit dat hulle dit sou doen as dit beteken dat Saleh sou swanger raak. Sister Martha het nie gras onder haar voete laat groei nie en haar die volgende dag na ’n buitelandse spesialis geneem om haar te laat ondersoek. Dit was ’n vroulike dokter, iets wat Saleh se hart verbly het. Ná die ondersoek het ook die dokter trane in haar oë gekry. “Jammer, mevrou Samir, maar hierdie tipe besnydenis is nie omkeerbaar nie.” Daar het sagte musiek in die vertrek gespeel; Engelse musiek oor Jesus, kon sy uitmaak. Soortgelyk aan dié wat in Uncle George-hulle se huis gespeel het. Die teleurstelling was so groot. Die musiek het op ’n manier getroos. “Daar bestaan ook geen mediese verband tussen vroulike besnydenis en onvrugbaarheid nie, hoewel ek tog al gesien het dat vroue swanger raak ná ’n omkeringsoperasie. Al wat ek nou nog kan doen, is om vir julle te bid,” het sy vervolg.” Ek dien die God wat die heelal geskep het en daarom lewe uit niks kan voortbring nie. Hy kan ook vir julle ’n lewe skep. Ken jy vir Isa?” “Ek weet van Hom,” het Saleh versigtig geantwoord. “Kom ons bid dat julle Hom volkome sal leer ken en dat Hy vir julle ’n wonderwerk sal doen.”
“Ek gaan by die stasie maar net probeer verdwyn in die massa,” sê Saleh aan Ruth. “Ek sal nie die ander kan groet nie, maar dra asseblief my opregte dank oor aan julle toerleier. En dankie vir jou. Om my storie te kon vertel, het my goed gedoen.”
Ruth druk haar vas. “Die Here sal jou seën en jou beskerm; die Here sal tot jou redding verskyn en jou genadig wees; die Here sal jou gebede verhoor en aan jou vrede gee.” Toe die trein tot stilstand kom en die deure oopgaan, glip Saleh tussen die massa mense op die perron uit met haar rugsakkie oor haar skouer. Sy het weer die hijab en haar gewone klere aan en lyk nie meer soos een van die toeriste nie. Dit sal vreemd wees om as toeris alleen te beweeg, het sy gedink. Sy bid, soos sy tussen die gedrang inbeweeg, dat sy onsigbaar sal wees vir oë wat na haar mag soek. Doelgerig stap sy in ’n rigting, al voel sy totaal paniekbevange. Sy maak oogkontak met niemand terwyl sy dwarsdeur die stasie stap, uiteindelik by die groot stel trappe op en uit die stasiegebou. Sy stap na waar die bekende bushalte is en koop ’n kaartjie. Op die ingewing van die oomblik kies sy die voorstad waar sy werk, al het Ashraf gesê sy moenie daarheen gaan nie. Sy weet eenvoudig nie wat anders om te doen nie. Sy moet met Uncle George praat; hy sal weet wat om te doen. Hoe sy ongesiens by hom gaan uitkom, weet sy nie, maar dit sal sy uitwerk soos sy vorder. Terwyl Saleh in die bus sit en staar na die massa mense en die verkeer waardeur hulle tydsaam beur, wens sy sy het haar ou lewe terug. Sy wens sy kan net weer werk toe gaan soos enige ander dag, wens sy kan daarna na hulle gesellige woonstel gaan. Sy was so gelukkig om daar te kon aanbly ná haar ouers se dood en dat Ashraf by haar kon intrek ná die troue. Gewoonlik sal paartjies amper vyf jaar moet wag om hulle eie woonstel in die stad te kry as gevolg van die groot inwonertal in Kaïro. Sy wens sy kon soos elke ander aand saam met Ashraf kosmaak en eet en kuier en later dalk TV kyk en dalk liefde maak. Wens sy ook dat sy nie tot geloof gekom het nie? troef haar eie gedagtes haar meteens. Nee, dit was soos ’n lang winter wat uiteindelik tot ’n einde gekom het toe sy tot geloof in Isa gekom het. Maar sy wens dit was steeds net hulle geheim.
Hoofstuk 8
PRETORIA. AUGUSTUS 2010
Te vinnig kom die tyd nader dat Petrus weer moet vertrek. Boonop is die dae nou so besig dat hulle mekaar skaars sien. Hy is besig met die finale reisreëlings en Salomé kan sien dat sy gedagtes voortdurend by die reis is. Hy vas en bid. Sy verlang na hom, selfs al is hy by die huis. Die revue is in volle swang en hulle kom saans laat by die huis. Sy kry gelukkig positiewe terugvoer en die hoof is baie tevrede. Petrus dink ook dis ’n groot sukses en sê dat hy baie trots is op haar. Sy is bly Petrus is wel in hierdie tyd nog hier, want hy help haar saans wanneer hy na Alexander kyk en probeer ook om vroeër in die middae by die huis te wees om Markus en Talitha te help rondry na hulle buitemuurse aktiwiteite, terwyl sy by die skool alles gereedkry vir die aand se optrede. Dis waarom ek hom so mis wanneer hy weg is, dink Salomé, dis juis omdat hy ’n betrokke pa is en my so baie help. Volgende week wanneer hy weg is, moet sy by die kunswedstrydoptredes gaan begelei en sy weet nog nie wie haar dan gaan help om na die kinders te kyk nie.
Saterdagaand is die laaste buiging gemaak, die applous sterf weg, die hoofspelers huil, die personeel slaak ’n sug van verligting. Met haar ruiker blomme wat die huis met sy lieflike geur vul, raak sy uitgeput aan die slaap. Vroeg Sondagoggend maak Petrus haar wakker. “Kom, Sally, ons moet klaarmaak vir kerk.” Sy kan nie glo dat hy so genadeloos is nie. Haar bene is nog moeg van
gisteraand en sy kan nie haar ooglede van mekaar af kry nie. Sy roer nie. “Sally, kom. Ons gaan laat wees.” “Kan ek nie net een Sondag van die jaar kerk mis nie?” mompel sy bot onder die duvet uit. Hy antwoord nie. Sy gooi die duvet oop en kyk na hom. Iets aan sy oë waarsku haar, maar sy weet nie wat nie. “Asseblief, Petrus, ek is gedaan.” “Die kerk het vanoggend die uitstuurseremonie vir ons groep.” Sy het vergeet. “O ja, dis vandag.” Sy het al so baie sulke seremonies bygewoon, sy wonder of sy nie maar hierdie een kan mis nie. Maar sy ken Petrus goed genoeg om dit nie te noem nie. Dis vir hom nie net ’n seremonie nie, dis deel van die mandaat om die werk van die Here te gaan doen in opdrag en met die geestelike beskerming van sy gemeente. Boonop was dit jare se stryd om die kerk van hierdie plig te oortuig. Sy staan dus moeisaam op en trek aan. Dis ’n mooi affêre. Hulle doen moeite om werklik die erns van die saak onder die gemeente se aandag te bring en Oudominee praat met soveel deernis. Vir hierdie predikant het sy soveel respek omdat hy self die geloofspad gestap het en met ’n kombinasie van nederigheid en gesag praat. Sy is bly sy het gekom, want sy kom self weer onder die indruk van die erns van die saak en hopelik sal die dominee se woorde tog die gemeentelede herinner om vir haar Petrus te bid wanneer hy weg is. “Die klein groepie wat Petrus lei, gaan na Jemen, wat geslote is vir die evangelie. Hulle gaan onder die dekmantel van gewone toeriste, met die doel om veral te gaan bid vir die land. ‘On sight with insight’, soos hulle sê. Hulle hoop egter om wel die geheime gelowiges daar te bemoedig en die evangelie te kan deel, of selfs net ’n oudio-Bybel in die plaaslike taal op strategiese plekke te kan plaas. Dit moet ingesmokkel word en toeriste word boonop met polisiebegeleiding deur die land geneem, juis om seker te maak dat hulle nie met die plaaslike bevolking in aanraking kom nie. Die risiko’s is dus groot. Tog was daar op die meeste reise getuienisse van hoe die Here geleenthede geskep het om mense te ontmoet en hoe die owerhede se oë verblind is vir die Bybels. Kom ons bid getrou vir hulle dat die Here hulle sal beskerm en seën.”
Die risiko daaraan verbonde maak die verantwoordelikheid op Petrus soveel groter. Die trane loop ongevraagd teen haar wange af toe hulle die berymde weergawe van Habakuk 3 sing.
“Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.
Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, Op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”
Petrus druk haar hand en vou sy arm om haar skouers. Toe sy opkyk, loop daar ook teen sy wang ’n traan af. Sy kan glad nie verder sing nie. Hulle staan weer in hulle pastoriegesinrytjie by die deur terwyl die gemeente uitloop. “Ag, julle doen tog sulke wonderlike werk vir die Here,” sê een dierbare ou tannie. “Hy sal julle seën daarvoor.”
Salomé glimlag sereen. “Dankie, Tannie.” Sy het al geleer om nie ’n lang relaas te probeer opsit om te probeer verduidelik dat dit eintlik net Petrus is wat die wonderlike werk doen en sy maar net oorleef nie. Daar is ’n paar mense wat ernstig onderneem om vir die reis te bid. Petrus vra dat hulle asseblief aan Salomé en die kinders by die huis ook sal dink, asof hy haar gedagtes kan lees. Dis genoeg mense, as hulle onthou, dink Salomé. Hulle moet net onthou en nie leë beloftes maak nie.
Petrus se tas is gepak en staan gereed voor die bed. Soos ’n tasbare herinnering dat hy net ’n tydelike bewoner van die huis is. Sy kan nie meer soos vroeër snot en trane huil en aan hom vasklou nie – daardie dae is verby. Sy het geleer hard word teen die gegroet. Amper saaklik. Maar die aand voor die tyd is altyd simpel. Gou praat oor die laaste reëlings. Seker maak hoe laat sy vliegtuig land. Wat mag sy SMS en wat nie? Kan hy e-pos stuur? Het hy toe die grassnyer reggemaak? En toe moet hulle liefde maak, want hulle gaan mekaar vir twee weke nie sien nie. Simpel aand. Hy slaap lankal toe sy nog agter sy rug wakker lê en wroeg. Sy verlang al klaar na hom. Die straf wat God ná die sondeval aan Eva uitgedeel het – na jou man sal jy hunker – is vir haar baie erger as die pyn waarmee sy die kinders in die wêreld moes bring. Sy haat haar lewe, besluit sy swaarmoedig. Maar die woorde van die Habakuk-lied kom weer by haar op. Help my om in U te jubel, Here, en gee my krag vir die alleentyd, is haar gebed voor sy uiteindelik aan die slaap raak.
Toe is Petrus weg. Die werk spoed voort op ’n dolle vaart en daar is gelukkig nie te veel tyd vir dink nie. Eerste probleem is by wie die kinders vanmiddag kan bly terwyl sy moet gaan begelei by die kunswedstryd. Sy is heeltemal te trots om Thea weer in die oë te
kyk en sy voel te skuldig teenoor Petrus om vir Dirk te vra. Sleep hulle dus die eerste dag saam. Gelukkig kan Alexander voldag by die kleuterskool bly. Talitha en Markus sit hoogs verveeld op die ongemaklike stoele in die koue saal. Hulle huiswerk is lankal afgehandel en hulle kyk met lang gesigte na die deelnemers. Sy sal dit wraggies nie weer aan hulle kan doen nie. Die aand kry sy ’n SMS. Veilig in pragtige land. Opgewonde oor toer. Mis julle. Liefde x P. Sy is dankbaar hy is veilig daar – vlieg al die hele dag saam met hom. Vir die volgende middag vra sy tog vir Dirk. Hy stem dadelik in en die kinders is bly om te gaan kuier. Toe sy hulle later gaan haal, nooi hy haar nie in vir koffie soos gewoonlik nie. Hy vra vriendelik na die uitslae, maar daar is ’n ongemak tussen hulle en sy ry dadelik. Dis tog beter so, maar effe simpel, dink Salomé. Sy is haastig om Alexander te gaan haal, want sy wil hom nie so vreeslik lank by die kleuterskool laat bly nie. Gister was ook al ’n lang dag. Te lank, besef sy toe sy hom gaan haal. Hy begin dadelik huil. By die huis kerm hy oor dit en dat en slaan haar selfs wanneer hy nie sy sin kry nie. Die Here my God gee vir my krag, herinner sy haarself bewustelik en gebruik al haar selfbeheersing om kalm te bly. Sy bel tog maar vir Thea die aand en vra of sy die kinders die volgende middag sal kan oppas. Thea is nie snaaks nie en stem dadelik in, seker ook spyt oor die gesprek van vroeër. Hulle is nie mense vir oorlog nie. Uiteindelik breek die naweek aan en ná weke en weke van spanning en revue en kunswedstrydoefening, is dit of alles in Salomé tot stilstand kom. Sy kan amper nie eens dink nie. Genadiglik kan sy Saterdagoggend laat slaap terwyl die kinders self vir hulle kitspap maak. Hulle sit voor die TV toe sy wakker word. Stomdom gaan sit sy by hulle op die bank in haar nagklere. Sy het nooit kans gehad om iets te beplan vir die naweek nie en eintlik is sy bly daaroor, want sy is net lewensmoeg.
Ná ’n rukkie klouter Alexander op haar skoot. “Kyk wat gaan McQueen nou doen, Mamma,” verwys hy na die storie. Sy hou hom ongemerk om sy lyfie vas en koester sy nabyheid. Wanneer laas het hy so op haar skoot gesit? Ná ’n rukkie skuif Markus op en kom maak hom styf langs haar tuis. Sy vryf oor sy hare terwyl hulle verder kyk. Later kom sit Talitha aan haar ander kant. Sy het nie genoeg hande om almal vas te hou nie. Toe die storie klaar is en die kinders een-een opspring, is sy skoon spyt. Lam bly sy op die bank sit. Alexander bring sy karretjies en speel op die mat voor haar. Ry later op haar bene en haar arms en sy lag wanneer hy haar so kielie. Wat ’n pragtige kind is hy as hy so lag, dink sy verstom, asof sy hom die eerste keer in ’n lang ruk raaksien. “Weet Mamma wat doen hierdie karretjie?” begin hy opgewonde vertel en sy mond is vir die volgende kwartier nie stil nie. Sy sit in verwondering na hom en luister en in haar hart is ’n diep seer oor alles wat sy gemis het die laaste ruk. Hoe lank? “Mamma is nog in Mamma se pajamas!” sê Talitha verwonderd. Salomé kan self nie onthou wanneer laas sy net so kon sit nie. “Ja, ek is sommer lui vanoggend,” glimlag sy. Sy besluit om haar eie behoeftes opsy te skuif en op haar kind te fokus. “Wat wil jy vandag doen?” Talitha kyk haar verbaas aan. “Kan ek kies?” vra sy opgewonde. “Ja, julle kan elkeen iets kies, dan kyk ons of ons dit kan inpas.” Sy hoop sy sal dit kan deurvoer. “Kan ons asseblief muffins bak, Mamma, uit my kookboek?” Sjoe, wanneer laas het hulle dit gedoen? “Ja, dit klink baie lekker.” “En ek wil koeiplaas toe gaan,” sê Alexander. ’n Gratis uitstappie naby aan hulle, wat altyd vir die kinders lekker is. “Goed, dan kan ons koeiplaas toe gaan.” Dis sover regtig nie moeilik nie.
“En ek wil gaan fliek,” sê Markus wat van die deur af staan en luister. “Goed,” sê sy versigtig. “Ek moet net eers kyk of daar ’n goeie fliek wys.” Die koste van die fliekkaartjies pla haar effens, maar sy gaan oë toeknyp en dit vir Markus doen. Sy kan tog nie net altyd sê dit is te duur nie. Hulle gaan kyk op die internet en toe is almal sommer baie opgewonde oor die dag. Sy gaan trek aan en kyk na haar dowwe oë in die spieël. Wat het van my geword, Here? Dit word ’n heerlike dag waarin Salomé haar net verlustig in haar kinders en in wat hulle wil doen. Daar is sommer nuwe energie in haar lyf. Talitha kwetter soos ’n voëltjie terwyl hulle muffins bak en Salomé kom weer op die hoogte van al die nuus oor haar maatjies en haar klas. Die fliek is ’n groot sukses en Markus gee haar ’n stywe druk toe hulle uitstap. “Dankie, Mams.” Alexander hol uitgelate op die koeiplaas rond en Salomé drink die laatmiddagheerlikheid om haar in. Dis lente. Die bome het nuwe blare en die voëltjies sing. Sy en die kinders stap rond en eet roomys en die lewe is ’n lied. As Petrus net hier was om die prentjie te voltooi. Sy moet deurentyd haar oë knipper om nie voor die kinders aan die grens te gaan oor die eenvoudige heerlikheid van hierdie dag nie. Sy bederf hulle met vetkoek en hulle gaan almal vreedsaam bed toe, geen bakleiery en gegil nie. Die aand skryf sy ’n lang e-posbrief aan Petrus oor haar gewaarwording die dag en die trane loop in strome by haar gesig af terwyl sy skryf. Wat het ek al die tyd gemis? Hoe kry ’n mens ooit weer tyd saam met jou kinders terug? Sy skryf haar hart leeg, voor haar moed haar begewe. Wanneer hy kans sal kry om dit te lees weet sy nie, maar sy skryf alles uit haar sisteem. Toe krap sy in haar handsak, soek tannie Marié se nommer op haar selfoon en bel haar. Die tannie tel amper dadelik op.
“Dit gaan goeterig, Tannie, maar ek dink ek wil van Tannie se aanbod gebruik maak, asseblief,” blaker sy dit uit. “Dat ek vir jou bid?” “Ja, Tannie.” “O, ek doen dit lankal. Maar ek sal vreeslik bly wees om te weet presies waarvoor ek kan bid?” Sy is so opreg dat Salomé sommer eerlik kan antwoord. “Ek sal bly wees as Tannie saam met my kan bid vir duidelikheid oor ’n paar goed. Petrus wil hê dat ek saam met hom op ’n reis moet gaan. Ek wil seker maak dit is die regte ding om te doen en ek wil natuurlik nie die kinders ontwrig nie.” “Ek verstaan. Ek sal beslis bid dat die Here vir jou duidelikheid sal gee.” “Petrus is ook weer op ’n reis op die oomblik en ek wil vra dat Tannie asseblief sal bid vir ons almal se veiligheid en beskerming. Ek sien nie weer kans vir die aanslae nie.” “Ek glo jou. Ek sal definitief so maak.” Hulle gesels nog ’n ruk en toe hulle aflui, is daar ’n rustigheid in Salomé. As sy wil hê dinge in haar huis moet verbeter, sal sy iets moet verander. Die eerste was dat sy haar trots gesluk en tannie Marié gevra het om vir haar te bid.
Toe sy ná kerk op die bank sit en koffie drink, blaai Alexander langs haar deur ’n boekie. “Watter vorm is dit daardie?” vra sy en wys na die vierkant. “Ek weet nie.” “Nee, man,” lag sy dit af. “Jy weet mos wat dit is.” Hy kyk weer, trek sy skouertjies op en sê: “Nee, ek weet nie.” En so vorder hulle deur ’n hele paar vorms. Hoe kan hy nie weet wat die vorms
is nie, hy is dan elke dag by die skool? Toe probeer sy die kleure. Hy ken die basiese kleure maar met die bietjie moeiliker kleure is hy ook nie baie suksesvol nie. Fronsend kyk sy na haar kind terwyl hy speel. Hy moes tog al hierdie goed bemeester het en sy weet hy is nie ’n dom kind nie? Later gaan krap sy ’n vorige rapport uit. Volgens die juffrou se assessering het hy tog al die mylpale bereik. Sy soek in die boekrak tot sy dit kry: ’n graad-R-werkboekie. Haar kind gaan wraggies sy vorms en kleure ken voor hy skool toe gaan. “Alexander, wanneer Markus en Talitha in die middae huiswerk doen, dink ek ons moet ook huiswerk doen. Graad-R-werkies, sodat jy gereed is vir volgende jaar. Wat dink jy?” Hy kyk belangstellend deur die boek. “Kan ek sommer nou begin?” “Natuurlik. Kom ons kyk hoe slim is jy.” Sy haal die uitdraaikryte uit en begin by bladsy een. Hy konsentreer amper ’n halfuur en sy kan sien hy blom oor sy werk. “Kan ons dit môre weer doen, Mamma?” “Beslis.” Hy hardloop uit om buite te gaan speel. Dit voel vir haar of daar lig in die tonnel is. Sy wens sy kon iemand bel en vertel. Maar wie sal hieroor opgewonde wees? Petrus. Sy sal vanaand weer vir hom skryf. Vir die eerste keer in maande voel sy voorbereid vir die week wat voorlê, al is dit sonder Petrus.
Hoofstuk 9
KAÏRO. AUGUSTUS 2010
Saleh hou haar kop laag vooroor in die busbank toe hulle by haar halte kom. Gelukkig het sy tyd gehad om te dink. Dis te gevaarlik om by hierdie stop uit te klim. Sy bespied die area onderlangs. Dit lyk net soos ’n gewone besige werksdag voor die kantoorgebou. Haar oë skiet vlugtig oor die mense, soek na ’n bekende gesig, vriend of vyand. Eers sien sy niemand, maar soos die bus begin beweeg, kyk sy na die oorkant van die straat en haar oog val op ’n man wat skuins oorkant die kantoorgebou sit. Sy pet is laag oor die oë getrek en hy drink uit ’n wegneembekertjie, maar sy aandag is op die kantoorgebou. Is dit Ashraf se broer Khaled? Skok ruk deur haar sodat sy vinnig afbuk na haar rugsak op die busvloer toe hulle vlak voor hom verbyry. Sy is te bang om terug te kyk en hou haar besig met haar sak sodat die ander op die bus nie onraad vermoed nie. Haar hart klop hard en haar hande bewe merkbaar terwyl die bus verder ry. Wat moet sy nou doen? Ashraf het haar gewaarsku om nie kontak te maak met Uncle George by hulle werkplek nie, maar hoe dan anders? As hulle die voorkant van die gebou dophou, sal hulle seker die agterkant ook dophou, of dalk nie? Wat moet sy doen? By die volgende bushalte sal sy afklim soos sy haar voorgeneem het. ’n Publieke foon is dalk die antwoord. Die bus begin stadiger beweeg. Behoedsaam staan sy op en probeer deur die busvenster sien of daar iemand is wat haar inwag. By hierdie stop is daar ’n veiligheidspolisieman. Sy sak op die naaste oop bank neer en hou haar weer besig. Sy gaan nie die kans vat om te sien of die gereg wel betrek is by hulle familieaangeleenthede nie. Die polisiediens in Egipte is nie bekend daarvoor dat hulle sagkens met mense werk nie. Inteendeel. Daar het juis onlangs weer MMS’e en amateurvideo’s die rondte gedoen van hoe polisiemanne mense verniel het sonder dat daar ooit enige stappe teen hulle geneem word.
Die bus trek weer stadig weg. Saleh kyk behoedsaam na die mense wat opgeklim het om seker te maak daar is nie ’n vyand nie. Niemand wat bekend lyk nie. Voor die volgende stop wag sy ’n bietjie langer om op te staan, tot sy seker is daar is nie ook veiligheidspolisie nie. Toe staan sy gemaak kalm op en klim af. Sy is werklik doodsbenoud toe die bus wegtrek en haar veiligheid daarmee saamneem. Sy bespied die area en begin in die rigting van die besigheidsentrum stap. Hoewel sy die area taamlik goed ken, het sy nooit in die besonder gekyk vir ’n openbare telefoon nie. Sy stap en probeer ongemerk kyk of sy een sien. Haar hart klop in haar keel. Verby wegneemetekafees stap sy. Sy is honger, maar sy moet eers bel. Uiteindelik sien sy ’n publieke telefoon aan die onderpunt van die straat. Behoedsaam loer sy oor haar skouer. Daar is niemand in die hokkie nie. Sy neem ’n paar munte uit haar beursie en skakel die kantoornommer met bewende vingerpunte. Sister Martha sou vir haar instaan terwyl hulle na Ashraf se ouers toe gegaan het. Ag, Vader, laat sy die foon optel. Die bekende stem in die gehoorbuis laat dadelik trane in Saleh se oë brand. Sy kan die skrik in Sister Martha se stem hoor. Daar het iets gebeur. “Luister mooi, my kind. Moenie naby die kantoor kom nie. Dit word dag en nag dopgehou.” “Ek het gesien.” “Dus is jy naby?” “Redelik.” “Goed, neem die laatmiddagbus wat ons gewoonlik huis toe sal neem, maar klim eers twee stoppe ná ons op.” Dis presies waar sy nou afgeklim het, dink Saleh verlig. “Ek sal agter in die bus sit, kom sit in die bank voor my as ek vir jou geknik het dat dit veilig is en niemand ons volg nie. Ons het ’n plan, maar jy sal mooi moet
luister.” “Dankie, Sister Martha. Ek het nie geweet wat om te doen nie.” “Verdwyn net eers tussen die massas, my kind. Ek is versigtig om te veel te bespreek. Ek is lief vir jou en God stuur sy engele om jou te beskerm.” Toe lui sy vinnig af. Verligting spoel deur Saleh; hulle het reeds ’n plan. Dankie, Isa. Op die ingewing van die oomblik skakel sy Ashraf se nommer ook. Maar soos laas is sy selfoon steeds afgeskakel. Teleurstelling spoel oor haar. Bekommerd kyk sy na die kontant in haar beursie. Sy sal moet stadig werk. Heel agter in ’n besige straatkafee gaan sy sit. Van hier af het sy ’n uitsig oor die straat, maar is tog weggesteek in ’n hoekie. Hoe lank sy hier sal kan bly sonder om aandag te trek, weet sy nie. Sy eet dankbaar en voel hoe sy effe ontspan. Daar is taamlik baie mense in die kafee wat nog vir oulaas voor Ramadan begin hulleself bederf met iets te ete. Van môre af mag ’n mens net van sononder tot sonop eet. Die lanterns hang reeds aan die straatlampe vir Ramadan. Sy vryf saggies oor haar buik, asof sy haar baba wil kalmeer. Dit sal die eerste keer wees dat sy nie saam vas nie, want swanger vroue is nie verplig om daaraan deel te neem nie. Sy wil net begin aanstaltes maak om te loop toe haar vriendin Aziza met haar twee klein kindertjies en haar ma ingestap kom. Saleh se asem slaan weg terwyl sy bewegingloos bly sit. Hulle kies gelukkig ’n tafel aan die oorkant van die vertrek en die pilaar gee Saleh ’n mate van skuiling. Sy sal dadelik aandag trek as sy nou opstaan en uitloop, en Aziza sal haar herken. Gelukkig hou die kleintjies Aziza so besig dat sy nie kan rondkyk nie. Die kelner kom weer by Saleh se tafel verby. Nou sal sy nog iets sal moet bestel as sy nie gaan loop nie. Dus bestel sy maar tee en dink bekommerd aan die inhoud van haar beursie. Die uur sleep verby terwyl Saleh haar gesig probeer wegsteek deur haar besig te hou met die Engelse dagkoerant wat iemand op die tafel laat lê het. Sy kom weer
op hoogte van president Hosni Mubarak se uitlatings en al die propaganda vir die regering. Daar is egter duidelike teëstand van die militante Moslem-groepe wat wil hê dat die Moslem-Broederskap moet regeer. Daar is ook ’n baie interessante artikel oor die verbanning van onafhanklike media wat die regering wil deurvoer. Alles dui daarop dat die regering beplan om ook op die internet op opposisiegroepe toe te slaan, dit selfs onwettig te maak om op Facebook ’n politieke groep van stapel te stuur. Uiteindelik staan Aziza-hulle op en Saleh laat nog ’n paar minute verloop voor sy ook opstaan. Sy wonder waarheen sy nou kan gaan en oplaas dink sy aan die biblioteek wat ’n paar blokke verder is. Daar behoort sy vir ’n paar uur te kan verdwyn. Die ure sleep verby en Saleh se oë wil boonop toeval, maar sy bly besig met ’n stapel boeke rondom haar asof sy navorsing doen. Die bibliotekaresse kyk soms in haar rigting, maar Saleh het ’n paar keer vriendelik geglimlag en geknik, asof sy heeltemal goed regkom – voor die vrou dalk kom vra. ’n Goeie halfuur voor die laatmiddagbus verby kom, het sy opgepak en stap sy in die rigting van die bus. Sy bespied die omgewing terwyl sy in die hoekie van die bushalte onder ’n dakkie sit. Gelukkig was sy vroeg en kon sy ’n sitplek kry, voor al die mense uit hulle werksplekke peul en om die bushalte saamdrom. Sommige gesels, maar die meeste mense lyk voos gewerk. Die mans voor haar gesels oor die politieke situasie. Ongelukkigheid met president Mubarak en sy regering is aan die orde van die dag, maar die volk is nie by magte om iets aan die outokrasie te doen nie. Dit is die gevoel van ’n menigte Arabiese state om hulle, het sy vanoggend in die dagblad gelees. Oral word die vure gestook. Opgewonde maar bang, sien sy die bus van ver af aankom. Die bus gaan baie vol wees, besef sy gou. Beur saam met die lywe in die rigting van die deur; hulle gaan haar nie hier agterlaat nie, dink sy gedetermineerd. Sy en ’n paar lywe druk vorentoe, net voor die busbestuurder die deur beslis agter hulle toemaak. Die mense staan reeds die paadjie vol. Haar oë soek-soek verby die koppe tot agter in die bus. Uiteindelik vang haar oog Sister Martha s’n. Dié knik ongemerk dat alles veilig is. Maar dit is vir Salomé onmoontlik om verby die mensemassa tot daar te kom. So naby en tog
so ver. Sy bly dus staan waar sy is met die hoop dat daar binnekort ’n klomp mense sal afklim. By die volgende stop klim niemand af nie, maar daar is steeds mense wat wil opklim. Op sy luidrugtige Egiptiese manier beduie die busbestuurder dat dit onmoontlik is. Dit gaan ’n lang rit tot by die eerste hoë woonstelgeboue wees. Salomé vou haar arm beskermend om haar buik terwyl die bus voortskommel en menselywe te naby aan mekaar almal tot stilswye dwing. Dit is net die bus se gebrul en die geskraap van ratte wat bo alles uitklink. Uiteindelik skuur ’n klomp mense by Saleh verby om uit te klim. Met haar boepie is dit nog ongemakliker. Sy vind stelselmatig haar pad na agter in die bus, kamma asof sy plek maak vir nuwe busryers. By die volgende stop klim nog ’n paar mense af en weer kan Saleh verder na agter vorder, maar steeds is daar geen sitplekke oop nie. Sy gaan staan reg langs die bank waar Sister Martha sit, maar dit is beset. Onverwags staan die jong man wat langs Sister Martha sit op. “Kom sit jy hier,” beduie hy en wys na haar boepmagie. Dis ongewoon dat mans vir vroue opstaan. “Dankie,” knik sy vriendelik en gaan sit. Ongemerk gryp sy en Sister Martha se hande mekaar vas en daarin lê soveel betekenis opgesluit dat nie een van hulle iets hoef te sê nie. Toe Saleh wel wil begin praat, skud Sister Martha ongemerk haar kop en haal ’n koevertjie uit haar handsak. Sy gee dit woordeloos aan Saleh. Terwyl Saleh dit versigtig in haar rugsak steek, sien sy voorop ’n adres. Binne-in is iets diks. ’n Sleutel? Sy kyk vraend na Sister Martha maar dié skud weer baie effens haar kop. Dus sit hulle woordeloos langs mekaar. Toe hulle naby die volgende stop kom, druk Sister Martha haar hand. Sy kyk vraend na haar: Moet sy nou hier afklim? Sister Martha knik. Hulle kon nie twee woorde wissel nie! Sy staan teleurgesteld op. Daar is nou minder mense in die paadjie en sy vind met lang treë haar pad tot by die deur, waar sy saam met die ander busryers wag om uit te klim. Sonder om om te kyk klim sy uit en stap net ’n rigting in. Die bus verdwyn om die draai.
By ’n kafeetjie haal sy die koevert uit. Sy lees die adres voorop en besef sy weet nie eens waar om te begin soek nie. Hierdie omgewing ken sy glad nie. Sy vra by die persoon agter die kas nadat sy seker gemaak het daar is niemand wat haar sal herken nie. Hy beduie vir haar dat dit ongeveer ’n kilometer se stap in die rigting van die woonstelblokke is. Sy begin stap. Probeer wegstap van haar teleurstelling, van haar heeldagse uitsien om Sister Martha te sien, weg van hierdie aaklige dag. Uiteindelik is die gebou voor haar. ’n Netjiese woonstelgebou met die naam wat op die koevert pryk. Dit is vyf stelle trappe na nommer 512. Saggies sluit sy die onbekende deur voor haar oop en sluip binne. Druk die deur na die gevaarlike buitewêreld styf agter haar toe. Staan net so teen die deur aangeleun. Toe haar oë aan die donkerige vertrek gewoond geraak het, kan sy ’n netjiese woonstel uitmaak. Vriendelik gemeubileer en gesellig. Op die yskas is daar foto’s van jong mense met kinders, buitelanders. Europeërs? Amerikaners? Hulle kinders? Sy trek haar skoene uit, los haar rugsak op die vloer en gaan sit eensaam op die rusbank om die brief in die koevert te lees.
Ons liefste Saleh Ons harte was so seer toe ons besef het dat julle naweek na jou skoonouers seker nie goed afgeloop het nie. Daar was iemand wat kom navraag doen het na jou by ons woonstel. Dit was onder die voorwendsel dat hulle dringend ’n boodskap by jou moes kry. Oproepe deur verskillende mense na die kantoor en die huis het ons gou laat besef dat jy in die moeilikheid is. Ons was so bly oor jou oproep vandag – dat jy lewe. Saleh, dit is vriende van ons se woonstel. Hulle is tans op tuisbesoek in hulle eie land en daarom staan die woonstel oop. Ons dink nie iemand is bewus van ons kontak met hulle nie en dat dit dus veilig is vir jou om voorlopig daar te bly. Hulle het die sleutel by ons gelaat om net af en toe ’n ogie te hou. Nou was die
een hand die ander en jy kan dit namens ons vir hulle doen. Hulle sal glad nie omgee dat jy daar bly nie. Gebruik wat jy nodig het. Ons word deurgaans dopgehou, dus is die gevaar net te groot om jou te besoek. Wanneer ek opklim by die een busstop en afklim by die volgende, is daar altyd iemand wat my dophou. Daarom dat ek gedink het om jou op die bus te ontmoet sal die veiligste wees. Daar is egter steeds die risiko dat mense ons dophou. Mag die Here hulle doof en blind hou. Wees versigtig wanneer jy uitgaan. Ons sal verkies dat jy binne bly, maar kon nie vir jou kos gaan koop en daar los nie, dus vertrou ek die Vader sal vir jou blink planne gee. Dit sal ook beter wees as die bure nie vermoed dat daar iemand bly nie. Dalk maak hulle in so ’n geval alarm. Wees versigtig. Ons het nog niks van Ashraf gehoor nie, maar hoop vir sy veiligheid. Ons was na julle woonstel toe om daar te gaan soek, maar die plek is omgekeer. Moet onder geen omstandighede daarheen gaan nie. Ons sal jou ’n rukkie op hierdie manier wegsteek tot die stof gaan lê het en jou dan na ’n meer geskikte plek skuif. Nou moet ons net meer geduld as ons vyand aan die dag lê en rustig wag. Ons is oneindig lief vir julle gesinnetjie en hoop dit gaan sommer baie goed met jou en die babatjie. Vir sy onthalwe mag jy nie oorhaastig raak nie. Ons betaal ’n gedeelte van jou salaris soos gewoonlik in jou rekening sodat jy daarvan kan leef. Wees versigtig wanneer jy daarvan onttrek; ek bid dat Vader jou baie wysheid sal gee. Al ons liefde. Ons sal na die woonstel se telefoon toe skakel as ons die kans kry om van ’n ander nommer af te skakel. Tot dan. Shalom. God is met jou. Liefde Uncle George en Sister Martha NS: Vernietig hierdie brief wanneer jy dit gelees het.
Saleh lees die brief oor en oor en die trane loop oor haar gesig. Sy is onwillig om dit te vernietig. Dit troos haar so dat sy dit eers in haar rugsak gaan bêre. Sy verken die woonstel: twee slaapkamers, twee badkamers, ’n gesellige kombuis en ’n oopplansit-eetkamer. Sy besluit om een van die enkelbeddens in die tweede slaapkamer te gebruik, onwillig om in die hoofslaapkamer te slaap en só haar onbekende gashere se privaatheid te skend. Dankbaar vir ’n ketel en teesakkies, maak sy vir haar tee met melkpoeier. Sy is flou van die honger, maar sien glad nie kans om die strate en winkels te trotseer nie. Met die paar droë koekies en soutbeskuitjies wat sy in die kas ontdek, gaan sit sy op die bank om haar brief weer te lees. Sy het ’n intense behoefte na ’n lang bad en toe sy hoor dat die woonstelle rondom haar ook lewe kry soos mense terugkeer van die werk, tap sy saggies water in die bad. Die spanning van die dae op pad week uit haar lyf. Sy lê tot die water koud is. Onwillig om uit te klim, maar te bang om weer warm water in te tap. Ongemaklik gaan kyk sy in die klerekas. Sy sien ’n oorgroot T-hemp en besluit om dit te leen om in te slaap. Uiteindelik kan sy haar moeë lyf neerlê. Die beddegoed vou vertroostend om haar. Dit is nog vroegaand en sy hoor TV-stelle in die naburige woonstelle, maar haar intense eensaamheid en moegheid maak dat sy net die nag wil verbykry.
Deel II
Today’s church wants to be raptured from responsibility. – Leonard Ravenhill
Hebreërs 13:3: Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.
Hoofstuk 10
PRETORIA. OKTOBER 2010
Die vakansie was weliswaar nie lank nie, maar die eerste skooldag het steeds ’n lekker energie. Die atmosfeer is aansteeklik en Salomé stap vrolik die personeelkamer binne. Sy vind haar gewone sitplek, en kort voor lank plof ’n nuwe gesig onverwags op die oop stoel langs haar neer. “Hallo, blommie. Is ek betyds? Heng, ek het so gehardloop. Ek het nie eintlik ’n clue waar ek my kar moet parkeer nie en toe soek ek nog na die ‘juffrounes’ ook. Gelukkig is die kinders baie goed ingelig. Ek dink hulle dink ek is Liewe Heksie wat van die maan af hier geland het soos hulle my aangestaar het toe ek my tabberd tot bokant my knieë optrek en hol.” Dit is alles amper in een asem gesê en die vrou is so kleurvol soos ’n kaleidoskoop. Salomé staar. “Hi.” Sy steek haar hand vol ringe en armbande na Salomé toe uit. “Ek’s Lilly.” “Salomé,” groet sy met ’n glimlag terug. “O, Phillip de Vos het ’n gedig oor jou geskryf,” sê Lilly en trek weg: “‘Salomé dans die vastrap, Salomé dans die wals …’” Salomé staar nog steeds. “Jy moet jou mond toemaak voor ’n vlieg invlieg, want dis goor, glo vir my. Dis maar net my manier van name onthou: assosiasie. Ek sal nie gou jou naam vergeet nie,” ratel sy vrolik. “Aandag, dames en here,” vra die hoof.
Salomé sukkel om haar oë van die verkleurmannetjie langs haar af te haal. “Aan die begin van die vierde kwartaal heet ek julle graag weer welkom. Soos party van julle dalk gehoor het, was mevrou Amalia Oosthuizen in ’n ernstige motorongeluk die vakansie en moes sy dringend ’n rugoperasie ondergaan. Sy sal dus vir ’n onbepaalde tyd buite aksie wees.” ’n Paar verbaasde geluide klink op en dadelik begin die onderwyseresse onderling uitvra na die detail. “Ons moes dus inderhaas ’n plaasvervanger kry en ons heet graag vir mevrou Lilly Liebenberg by ons welkom.” Daarop staan Lilly dadelik op en maak ’n swierige buiging. Almal lag spontaan. “Mevrou Liebenberg sal buiten Afrikaans vir die graadviers die kuns en drama waarneem, waarin sy klaarblyklik besondere talent het.” Dit klink vir Salomé asof die hoof probeer verskoning maak omdat Lilly so kleurvol lyk. Sy glimlag warm vir Lilly. Hulle twee sal dus moet saamwerk aan die sang- en ander items vir die jaareindfunksie. Die hoof praat voort oor alles wat voorlê, maar Salomé se gedagtes is by die fassinerende vrou langs haar. Sy het nog nooit so iemand in die onderwys teëgekom nie. Ná die personeelvergadering haak Lilly spontaan by Salomé in, asof sy glad nie bewus is van enige persoonlike ruimte nie. “Hoor hier, ek het nie ’n clue waar my klas is nie. Sal jy my wys?” Salomé word saamgesleep terwyl sy praat, asof Lilly tog reeds weet watter rigting om te loop. “Jy’t nou nog nie gesê watter vak jy gee nie?” Asof sy al ’n woord kon inkry! Salomé lag terwyl sy antwoord. “O, wow! Dis fantasties. Dan gaan ons nog baie saamwerk. Ons beter begin bond dat ons kreatiewe juices kan begin jel.”
Kreatiewe juices? Salomé dink nie sy het meer so iets nie. Sjoe, hoe lekker is hierdie nuwe energie. “Mensdom, maar dis drab!” sê Lilly toe hulle by haar klaskamer kom. “Hoe hou die kinders dit uit in ’n klas sonder kleur? Hulle opstelle is seker so opwindend soos die kleur van die mure,” sê sy dramaties. “Dink jy ’n mens mag die mure verf?” Salomé lag. “Is jy nie net deeltyds hier nie?” “Deeltyds smeeltyds,” lag Lilly dit af. “Ek moet dit hier kan uithou. Maar jy’s reg. Kom ons slag een hoender op ’n slag. Slag en slag. Dit was ’n onbeplande homoniem,” sê sy half verras. “En laat ek raai, die juffie het seker iewers ’n klomp lêers in vervelige blommetjiespapier wat vir my wag?” Salomè lag weer hardop. Dis presies hoe Amalia se lêers lyk! Sy wys Lilly na die vensterbank. “Oh, what did I tell you?!” roep Lilly uit met haar hande in die lug. “Dan behoort alles ook mooi georganise te wees sodat ek presies sal weet waarmee om voort te gaan.” “In die kol,” sê Salomè. “Sy is miskien nie baie kleurvol nie, maar sy is baie agtermekaar.” “Oh well,” sug Lilly, “ons het almal ons sondes! Waar’s jou klas?” “My klaskamer is reg langs joune. Jy kan kom roep as jy vasbrand.” Deur die loop van die oggend hoor Salomé telkens hoe skaterlag die klas langs hare. “Juffrou, die nuwe Afrikaanse juffrou is so cool,” kom vertel die kinders. Salomé kan maar net glimlag. Hulle skool kan voorwaar doen met ’n bietjie kleur. Dit was maar taamlik “drab” voor Lilly hier aangekom het. Pouse sluit sy haar klas en loer by Lilly in. Dié haal ’n reuse- oranje kosblik uit haar mandjie. “My man het vir my lunch
gepak vir my eerste dag. Ag, hy is so sweet.” Salomé kan maar net wonder hoe haar man lyk. “Stap jy saam personeelkamer toe?” “Jip. Ek het nou al die kids aan my kant, nou moet ek nog die liefde gaan deel met die onderwyserkorps,” sê sy militêr en kry haar sleutels. “Jy sal nie moeite hê nie,” verseker Salomé haar. “Gmf, het jy gesien hoe kyk daardie een met die blou rokkie na my?” vra sy terwyl sy die klas sluit. Salomé bars uit van die lag. “Emmerentia Smit is die departementshoof vir tale. Sy sal seker bekommerd wees, ja.” “H’m, ek sal dus my subtiele, snobistiese, suiwer Afrikaanse woordeskat moet uithaal vir haar?” “Beskik jy oor ’n suiwer Afrikaanse woordeskat?” lag Salomé. “Haai, jy moenie my vlak skat nie. Ek het Afrikaans gecum, I’ll have you know!” Salomè drink ’n vervelige koppie koffie terwyl Lilly suig aan ’n lang plastiekbottel met ’n strooitjie in. “Gummy Berry Juice,” verduidelik sy, wat die inhoud nog glad nie aan Salomé verduidelik nie. “Nou hoe beland jy hier by ons?” vra Salomé toe hulle hul sit kry. “Man, ek is pasgetroud. Ek is nou al thirty-something, dus is dit op sigself ’n wonderwerk dat my wonderlike, vervelige ingenieurman ooit een kyk na my gegee het. Maar hy dink ek is die wonderlikste ding wat bestaan en ek love sy mind. Okay, natuurlik sy lyf en sy geld ook, maar veral sy mind. Seks is darem fantasties.” Salomé trek haar asem geskok in voor sy begin lag. Toe ’n paar ander onderwysers in haar rigting kyk, bloos sy tot oor haar ore.
“Nee, man, jy moet jou pose hou. Netnou dink hulle ons praat oor seks,” fluister Lilly ondeund. “Jy’s verskriklik.” “Verskriklik oulik, sê my man. Nee, maar wat ek bedoel om te sê is dit: Ons het nie saamgebly voor ons getroud is nie, want ons is Christene en alles.” Salomé probeer die prentjie van hierdie vrou in hulle kerk inpas, maar dit wil glad nie werk nie. “Anyway, so ek moes laaaank wag vir daardie hoofletter Lekkerte waaroor die hele wêreld praat. En nou kan ek saampraat, sien?” “Ek hoor jou,” sê Salomé tentatief en bloos nog steeds. “So ek het eers na ons troue by hom ingetrek hier in Pretoria. Ek het eintlik by die kunsskool in Johannesburg gewerk en het maar gebid vir ’n pos op die regte plek. Die ryery na Johies het my vreeslik begin vang. Ek is vreeslik bly ek gaan ’n bietjie met gewone mense werk. Ek dink ons arty-farties raak so ver verwyderd van die realiteit dat ek soos ’n lugballon begin voel het. Almal kyk mos altyd na ’n lugballon met sy helder kleure, maar eintlik ken niemand jou nie.” Salomé verwonder haar aan hierdie vrou se selfvertroue. “En jy?” “Ek wat?” word Salomé uit haar verwondering geskud. “Wie’s jou man? Wat doen hy?” “Hy’s … hy … wel, hy’s soort van ’n sendeling,” stotter Salomé. Hoekom is sy nooit gereed om daardie vraag te beantwoord nie? “Super-duper cool,” sê Lilly toe die klok lui. “Volgende pouse wil ek als hoor.” Sy klink opreg, dink Salomé verras. Die volgende pouse kom roep Dirk haar egter om gou die datums vir die
merietefunksies vas te maak. Lilly meng moeiteloos met die ander personeel en Salomé beny haar. Hoe lank het dit haar wat Salomé is nie geneem om as jong juffrou haar plekkie in hierdie personeel te vind nie. Lilly warrel in en sy het binne minute die mense aan die skater. Sjoe, sommige mense het dit net so maklik, dink sy effens jaloers.
Terwyl die kinders vrolik babbel in die motor op pad huis toe, is Salomé se gedagtes by Lilly. Sy voel skielik vaal en vervelig in vergelyking met haar. Miskien moet sy net weer iets nuuts aanskaf om te dra. Maar daar is nie nou geld daarvoor nie. Boonop glo Petrus dat ’n mens net iets nuuts koop as jou klere of skoene gedaan is. O, sy sal ’n klomp goed kan uithaal en weggee, maak geen fout nie, maar daar is nie nou geld om iets nuuts te koop nie. Hou op jammer voel vir jouself en tel jou seëninge, raas sy in haar gedagtes met haarself. Jy het alles wat ’n mens se hart kan begeer: ’n goeie man, liewe kinders, ’n huis, kos, klere. Vivaldi se “Winter” speel oor die motorradio, en sy is skielik erg melancholies.
Lilly dra weer ’n uitrusting wat jou twee keer laat kyk. Salomé sal dit nooit waag om soveel kleure te meng nie. Tog werk dit aan Lilly. “My man was ’n darling. Hy’t vir my aandete gemaak en ’n bad getap en vreeslik gefaff ná my eerste stresvolle dag by die werk.” Salomé glimlag. Hy moet nog baie verlief wees. “En jou man? Jy wou my nog gister vertel.” “Hy’t nie vir my ’n bad getap en aandete gemaak nie, nee,” lag Salomé. “Ja, man, maar jy wou vertel wat hy doen. Toe ek vir Pieter gisteraand wou vertel van jou en jou man, toe besef ek dat ek nog eintlik niks weet nie.” “Ek is bevrees ek sal nie nou als kan vertel nie. Die klok gaan lui. Ek sal eendag vir jou moet tee maak, dan vertel ek jou.”
“Fyn pikkewyn. Kom ons doen dit sommer vanmiddag.” Salomé bly verbouereerd stil. “Sorry, ek’s al weer te voor op die wa,” sê Lilly spytig. “Nee, nee, dis heeltemal reg. Ek moet net gou dink aan die kinders se buitemuurs en so aan.” “Natuurlik. Jy sit nie soos ek doodverveeld die middae en omwens nie. Jy het ’n wavrag vol kinders om te karwei.” Salomé lag. “Nie heeltemal ’n wavrag nie. Net drie.” “Wow, jy is so gelukkig! Ek kan nie wag om swanger te raak nie.” “Stadig. Wil jy nie net eers ’n bietjie getroud wees nie?” “Jaaa-a, but my biological clock is ticking, jy weet. Ek’s al ses en dertig en als.” Dit was onmoontlik om haar ouderdom te skat met al haar kostuums aan. Sy kon enigiets van vier en twintig tot vier en veertig gewees het. “Goed, kom vanmiddag na my huis toe as jy wil, so vieruur, dan behoort ons klaar te wees met die huiswerk en buitemuurs.” “Coolaroney. Ek bring vir ons koek.”
Lilly kuier tot amper seweuur. Tot haar eie verbasing het Salomé gepraat en gepraat. Dit was so lekker om net haar hart uit te praat teenoor iemand wat totaal neutraal staan. Tot haar groter verbasing het Lilly aandagtig geluister. Later het sy haarself verleë stilgemaak. “Ek praat jou ore van jou kop af, Lilly. Ek kan nie glo ek het ’n vreemdeling nou net al hierdie goed van my lewe vertel nie.” “Wel, noudat jy my vertel het, is ons nie meer vreemdelinge nie. Slaap rustig, jou storie is veilig by my. Maar nou weet ek waarvoor om vir jou te bid.” “In watter kerk is julle?”
“O, ek pas nie eintlik in die kerkopset nie. Die predikante kla ek trek almal se aandag af. Dus hou my man my nou by die huis,” lag Lilly onbevange. “Ons hou huiskerk saam met ’n klomp mense wat ook nie so lekker inpas nie. Julle moet ook ’n slag kom.” “Dit klink interessant.” “Nou toe, sodra jou ‘Petrus, die visser van mense’ weer ’n slag tuis is, kom julle.” “Okay. Maar jy moet nou ry dat ek my kinders kan bad en kos gee. Hulle gaan slaap nooit laat nie,” voeg sy reguit by. “Boot die bad vir een aand.” En toe sy Salomé se gesig sien, voeg sy lighartig by: “Come on, live on the wild side.” Terwyl Lilly se knalhelder motortjie wegry, dink Salomé aan haar woorde en neem ’n besluit. “Kinders, julle hoef nie vanaand te bad nie. Gaan trek gou pajamas aan, dan eet ons.” “Wat gaan ons eet?” vra Markus bekommerd. “Ma’t nog nie eens kos gemaak nie?” “Hoe klink eierbrood met Milo-pap?” Markus se gesig sê hy kan nie glo wat hy hoor nie. “Tahlita! Alexander! Daai weird juffrou het met ma se kop getoor. Hoor wat gaan ons vanaand eet,” roep hy terwyl hy gangaf hardloop. Salomé glimlag. Live on the wild side.
Hoofstuk 11
KAÏRO. OKTOBER 2010
Saleh het leer leef soos een wat nie bestaan nie, of liewer, soos een wat nie mag bestaan nie. Dis asof die groot stad Kaïro haar ingesluk en vergeet het van haar bestaan. Sy weet hoe om geluidloos deur die dag te kom: Saans tap sy badwater in wanneer haar bure ook bad. Sy was skottelgoed wanneer die hele gebou saans raserig regmaak vir aandete, sy maak vinnig iets te ete in die mikrogolf en haal dit uit voor daar ’n klokkie kan lui. Sy weet hoe om saans geruisloos deur die woonstel te beweeg sonder om die ligte aan te skakel. Sy skakel die TV saggies aan en sit met haar oor teen die skerm om die aandnuus te hoor. President Mubarak is al so lank president as wat sy lewe. Dit blyk egter dat veral die jong mense nou moeg is vir hom en sy outokratiese bestuurstyl. Vanoggend het sy Egypt Today, ’n gewilde geselsprogram op TV, sag aangeskakel. Die aanbieder, Mona ElSharkawy, en haar twee gaste het voorgestel dat die regering onafhanklike media soos Facebook verbied. Hulle het dit gekritiseer onder die dekmantel van veiligheid en daarop gewys dat intelligensiedienste dit kan gebruik om geheime informasie in te samel. Dit sluit aan by die koerantberigte wat Saleh gelees het. Sy is seker dit is regeringspropaganda wat ontstaan het omdat jong mense op groot skaal hierdie sosiale media volg; hier het hulle vrymoedigheid om gevoelens van onderdrukking te lug. Daar het onder andere Facebook-groepe ontstaan met ’n nasionale oproep om die Egiptiese Nobelpryswenner vir vrede, Mohamed ElBaradei, te ondersteun as nuwe presidensiële kandidaat. ’n Ander Facebook-groep met die naam “Together to stop the ban of Facebook in Egypt” het in net meer as tien dae meer as tien duisend lede gekry. Sy weet wat in die wêreld om haar aan die gebeur is, maar kan nie daaraan
deelneem nie: ’n toeskouer van die lewe. Wanneer sy seker is niemand is naby nie, beweeg sy soos ’n skaduwee in en uit die gebou. Sy weet ook hoe om kilometers te voet af te lê om seker te maak dat sy nie dieselfde winkels oor en oor besoek nie. Sy het net te groot geskrik toe haar vriendin haar in ’n winkel herken het. “Saleh!” het haar vriendin gegroet. “Ons wonder al vir weke wat van jou geword het?” “Hallo, Rasha.” Haar hart het in haar keel geklop. “Kyk hoe mooi lyk jy swanger,” het haar vriendin gekoer. Sy vermoed onraad. Saleh kon dit aan haar houding sien. “Ek moet gaan Rasha,” het sy aanstaltes gemaak. “Nee wag, Saleh. Ek wil so graag weet wat van jou geword het en waar jy nou bly? Daar was mense wat kom uitvra het na jou, broers van Ashraf.” “Wanneer?” Sy het groot geskrik. “’n Rukkie terug al. Wat gaan aan Saleh?” “Ek kan jou nie vertel nie, Rasha. Asseblief, glo my, en moet ook asseblief nie sê jy het my gesien nie, ek smeek jou.” “Ek verstaan nie, Saleh?” “Belowe my!” “Saleh …” “Ek moet gaan, Rasha. Maak asseblief asof jy my nooit gesien het nie.” Sy het met ’n ompad teruggekom en in die woonstel kom wegkruip. Nou ken sy elke hoekie van die woonstel, elke foto en ornament. Dit voel of sy die eienaars persoonlik ken. Sy was selfs al lus om John en Anne se kaste reg te pak, maar dit sal hulle privaatheid skend. Sy het dit oorweeg om al die gordyne en beddegoed te was, maar is bang dat dit te veel geraas sal maak.
Naweke is aaklig doods. Die bure se ritmes is onvoorspelbaar en sy durf nie die risiko neem om uit te gaan nie. Saleh weet presies hoe lank elke sekonde, minuut en uur neem om verby te skuif. Snags kom die slaap genadiglik en eet die ure vinniger op. Eensaamheid hang oor haar hele wese en sy kan nie onthou wanneer laas sy gelag of geglimlag het nie. Sy herleef die gelukkige tye oor en oor in haar geheue, net om die trane weer geluidloos oor haar wange te voel loop. Kan een mens so baie huil? Al wat haar daarvan weerhou om die strate in te hol met ’n banier wat uitroep “HIER IS EK!”, is die baba wat onder haar ribbes skop-skop. Haar boepie wys nou al duidelik dat sy ’n nuwe lewe ronddra. Sy is vyf en twintig weke swanger met die baba waaroor sy en Ashraf so lank gedroom het, vir wie sy babagoedjies gekoop het sedert die oomblik wat sy gehoor het sy is swanger. Sy het al hoeveel keer aan ’n plan probeer dink om ongesiens na hulle woonstel toe te gaan. Hoe graag sou sy net die mooi babagoed wou gaan haal, haar eie klere, ’n paar spesiale goed. En hulle Injeel. Sy mis die Woord in haar eie taal. Maar elke keer speel Sister Martha se waarskuwings in haar geheue af en dan sien sy weer daarvan af. Intussen lees sy die Engelse Bybel wat in die woonstel lê. Nee, eintlik verslind sy dit. Sy lees gedeeltes oor en oor, probeer dit in Arabies vertaal in haar kop om die betekenis daarvan beter te verstaan. Sy lees asof haar lewe daarvan afhang. In wese hang haar lewe daarvan af! Sy word bemoedig deur die Woord. Net om dikwels ’n uur later weer moedeloos na die venster te kyk in die hoop om Ashraf in die straat afgestap te sien kom. Sy het al opgegee om sy selfoon te probeer skakel en bid net deurlopend vir sy veiligheid. Sister Martha bel dikwels. Sy leef vir daardie oomblikke dat die telefoon lui. Hulle het afgespreek dat dit saans tussen vyf- en seweuur moet wees, wanneer die hele woonstelgebou in rep en roer is, sodat niemand die landlyn hoor lui nie. Die luitoon is buitendien op sy laagste volume gestel. Dit voel letterlik soos haar lewenslyn met die buitewêreld. Haar eerste vraag is elke keer of Ashraf dalk al kontak gemaak het? Nee, nog steeds nie. Hoop verdwyn met elke oproep. Boonop is dit vir Sister Martha ongerieflik, want sy moet telkens van ’n ander nommer af skakel om seker te maak dat oproepe van haar telefoon af nie Saleh se wegsteekplek sal verklap nie.
“Ons moet meer geduld as hulle hê, my kind,” het Sister Martha getroos toe sy moedeloos haar frustrasies wou uitskree. “Hulle moet dink dat jy iewers dood lê voor ons jou kan skuif.” “Waarnatoe gaan ek skuif?” “Ons het ’n plan, maar ons moet versigtig wees, want ons het nie ’n plan B nie.” “Wat is dit?” “Ek kan jou ongelukkig nie nou al sê nie, my kind, maar sodra ons jou kan skuif, sal ek jou laat weet. Die goeie nuus is dat ons vriende se woonstel vir nog ’n maand beskikbaar is. Hulle het hulle tuisbesoek verleng weens mediese redes.” Saleh se hart het in haar voetsole gaan lê. “Nog ’n maand!” “Jy moet geduldig wees, my kind. Gebruik die tyd om ons Vader beter te leer ken. Sodra ons agtervolgers moed opgee, kom kuier ons vir jou. Ek is net so bly hulle het nie ons plan in die wiele gery toe ek jou op die bus ontmoet het nie.” “Maar kan ons dit nie weer doen nie? As ek julle net ’n bietjie kan sien.” “Nee, die risiko is te groot vir jou en die baba. Boonop het hulle al ’n keer of wat saam op die bus geklim en ons kan buitendien nie openlik daar gesels nie.” Saleh het met ’n swaar hart die foon neergesit. Bitterheid het soos ’n slegte smaak in haar mond gesit. Ek soek net my ou lewe terug! wou sy uitskree. Uit moedeloosheid het sy die Bybel gaan haal en dit by Matteus 5 oopgeslaan. Sy het so gehou van die bergrede van Isa dat sy dit sommer oor en oor wou lees. Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Dat God vir haar so ’n boodskap gee wanneer sy troos soek! Sy verkies die dele waar Isa op die berg gepreek het: Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel … Of: Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg. Hierdie deel van die Skrifte ken sy al uit haar kop en dit dra haar deur die lang en moeilike dae, maar om haar vyande lief te hê en vir hulle te bid …
Sy lees liewer verder en soek nog troos, maar die volgende teks spring na haar toe uit: Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Vergewe? Sy klap die Bybel summier toe. Die hele aand maal die woorde egter in haar kop rond en worstel sy met God daaroor. Hulle wil ons doodmaak omdat ons in U glo? Hoe kan ek hulle vergewe? Net soos ek jou vergewe het, kom die antwoord. Maar dis anders, Isa! Ek het vergewe toe Ek aan die kruis gehang het. Maar U is God. Ek is net ’n mens en ek kan nie hierdie mense vergewe nie. Nee, jy kan nie, jy is heeltemal reg, maar Ek kan jou help! Sy kan net met trane antwoord. Later probeer sy onderhandel: Vader, ek sal hulle vergewe as U vir Ashraf veilig terugbring. Ek word nie gemanipuleer nie, Saleh.
Sy staan met ’n dik kop op ná ’n nag van rondrol en onrustig insluimer, net om weer wakker te word met donker gedagtes van wraak, wat heeltemal strydig is met dit wat van haar verwag word. Sy skrik vir haar eie stem: “Ek kan dit nie doen nie!” Begin by die begin. Die begin? Sy is nie seker wat dit beteken nie. Sy verrig die gewone oggendtakies terwyl sy daaroor wonder. Later het sy niks anders meer om te doen nie en slaan onwillig die Bybel weer oop by gisteraand se gedeeltes: Julle moet julle vyande liefhê … Dit was die begin. Snaaks hoe naby liefde en haat aan mekaar lê. Sy sou vroeër kon sê dat sy haar skoonfamilie selfs liefgehad het.
Nou haat sy hulle. “Vader, ek kan hulle nog nie weer liefhê nie, maar ek sal vir hulle bid. Isa, my Verlosser, ek bid nou vir Ashraf se familie. Ek bid dat U hulle sal laat besef dat wat hulle doen, verkeerd is en dat hulle Ashraf sal laat gaan as hy nog by hulle is.” Dit voel nog nie heeltemal reg nie. Sy probeer weer: “Isa, my Verlosser, ek weet nie of ek reg bid nie, maar help my asseblief dan om reg te bid.” Sy huil nou. “Ek is kwaad en ek is bang dat my baba sonder ’n pa gaan grootword en hy wou so graag ’n seun gehad het, Vader. Ek kan nie dink dat U van my verwag om hulle lief te hê of te vergewe nie. Maar, Isa, as U vir my en Ashraf kon oortuig dat U die lewende Verlosser is, dan kan U mos vir hulle ook oortuig. Moenie dat hulle soos my ouers sonder Isa se vergifnis sterwe nie. Ek weet U is lief vir hulle, al is ek nie nou nie en daarom vra ek dit. Amen.” Sy huil nog ’n rukkie, maar die verligting om teenoor Iemand uit te blaker hoe sy voel, was so groot dat sy net daar op die mat bly lê.
’n Klop aan die deur maak haar wakker. Sy is eers nie seker of sy reg gehoor het nie, maar toe klop iemand weer. Vreesbevange lê Saleh net waar sy is. Sy weet glad nie wat sy moet doen nie. Weer ’n klop. Iemand draai aan die deur se knop, wat op knip is. Stilte. Sou hulle haar kan hoor asemhaal hier waar sy op die grond lê? Sy probeer haar asem inhou, maar kan dit nie volhou nie. Die voetstappe by die deur draai stadig om, stap terug, klop weer. Wag. Stilte. Toe stap die persoon weg. Sy skarrel versigtig na die venster om te kyk wie die gebou verlaat, maar nadat sy ’n kwartier gewag het, kom daar steeds niemand uit nie. ’n Persoon in die gebou wat dalk snuf in die neus het dat daar iemand in hierdie woonstel skuil? Het sy geraas? Die TV? Sy sal baie versigtig moet wees. Eintlik het sy beplan om vandag weer uit te sluip na die winkels toe om ’n paar goed te koop, maar twyfel nou of dit wys sal wees. Sy maak vinnig in haar kop ’n bestekopname van wat nog in die woonstel is om te eet. Dit is min, maar dit sal moet deug. Die hele dag is daar ’n bewerigheid in haar en kan sy nie eens verder op die
Woord konsentreer nie. Boonop lê die hele kwessie van liefde en vergifnis nog swaar op haar gemoed en wil sy juis haar gedagtes daarvan wegkeer. Waar is Ashraf? Lewe hy nog? Dis die een gedagte wat so gereeld as wat sy asemhaal, by haar bly. Hoe wens sy net sy kon iets sinvols doen met haar tyd. Sy oorweeg weer die kaste of die gordyne … Maar vanoggend se skrik laat haar weer daarteen besluit. Sy sal warmer klere moet kry. Dit word koud en sy voel te sleg om haar gashere se klere te dra. Boonop groei haar boepie so dat sy skaars nog in haar langbroeke pas. Nog ’n dag se wag voor sy gaan klere koop, sal seker nie saak maak nie, sug sy en tel maar weer die Bybel op. Sy weier om verder te lees uit Matteus, uit vrees dat sy weer gekonfronteer sal word met vergifnis en liefde. Blaai na die Psalms. Sy ken nie eintlik die Ou Testament nie, maar het gehoor hoe Uncle George soms van hierdie liedere lees. Hy het gesê dit verwoord so dikwels hoe ’n mens voel. Blaai-blaai kom sy uit by Psalm 55: Luister na my gebed en antwoord my: my sorge gee my geen rus nie. Ek is hewig ontsteld oor die dreigemente van my vyande en oor die druk van slegte mense op my. Hulle wil my met onreg breek; verwoed stook hulle vyandskap teen my. My hart krimp inmekaar in my, doodsangs oorval my, vrees en skrik oorweldig my, my hele liggaam bewe. Ek het gedink: ag, as ek maar vlerke soos ’n duif gehad het, sou ek ver wegvlieg en ’n woonplek soek … Maar ek, op U vertrou ek. Sy weet dat sy beslis soos hierdie Dawid voel. Sy wens sy kan die woorde onderstreep, maar dis nie haar Bybel nie. Daarom lees sy dit maar net oor en oor, memoriseer dele. “Dankie, Here, dat U hierdie woorde vir my gee om aan vas te hou, dat U weet hoe ek voel. Op U vertrou ek.”
Hoofstuk 12
PRETORIA. OKTOBER 2010
“Jy lyk goed!” sê Petrus half verras terwyl hy Salomé staan en bekyk terwyl sy die wasgoed uit sy reistas pak. “Ek lyk goed in blou, of wanneer ek jou wasgoed uitpak, of ek lyk goed vir ’n vrou wat al weer weke sonder haar geliefde man moes klaarkom?” vra Salomé laggend. “Al drie,” lag Petrus terug en kom druk haar weer styf teen sy breë bors. “Ek het regtig weer verskriklik verlang na jou en na julle almal. Dit voel of dit met elke reis erger word.” “Net toe ek die weggaan beter begin hanteer, kry jy weer swaar.” “Wat het verander?” Sy gesig trek verwonderd saam. “Ek weet nie eintlik nie. Alles en niks. Tannie Marié bid vir ons en ja, Lilly het in my lewe ingewaai. Sy het om die een of ander vreemde rede met die vaal, doodgewone, vervelige ek vriende gemaak,” begin sy en vertel hom alles. “Ek is regtig bly vir jou. Maar laat ons net ’n sakie regstel.” Hy staan weer nader. “Jy is beslis nie vaal, vervelig en doodgewoon nie. Ek sê dan nou net hoe goed lyk jy … in blou,” sê hy saggies en begin haar in haar nek soen. Sy lag en wriemel haar uit sy greep toe Alexander in die deur kom staan. “Wat doen Pappa met Mamma?” “Ek kielie haar,” sê Petrus terwyl hy haar weer probeer bykom.
Sy hardloop met ’n gilletjie om die bed, maar Petrus sien haar plan en begin sommer oor die bed klouter. “Vang haar, Pappa!” moedig Alexander hom laggend aan en kom help ook sommer keer dat sy wegkom. Talitha en Markus loer ook om die deur en kort voor lank het Petrus hulle almal op die bed vasgekeer en kielie hy hulle behoorlik. Daar is ’n vrolike gegil en geskree. Later lê sy in die waai van Petrus se arm met die kinders almal om hulle gesaai. Hulle luister hoe Petrus vertel van die reis en wat die groep beleef het. Van die geheime gelowiges wat hulle ontmoet het en die wonderwerke wat hulle gesien het. “Eendag het ek in ’n publieke toilet ingegaan, so in ’n stegie in ’n klein dorpie. Daar was net een ander man daar. Toe ek die man vriendelik groet in die bietjie Arabies wat ek kan bemeester, kom die man versigtig na my toe en vra in gebroke Engels of ek ’n Christen is. ‘Ja,’ antwoord ek hom toe, ’n bietjie op my senuwees. Hy smeek my toe om asseblief net daar te wag, want hy wil asseblief nagmaal saam met my gebruik. “Die man was ’n hele ruk weg en toe hy uiteindelik terugkom, was dit met druiwesap en brood. Daar in die goor Arabiese kleedkamer deel ons toe die brood en wyn. Ek het vir hom gebid, al was ek nie seker of hy alles verstaan het nie. Terwyl die trane oor die man se wange stroom, het hy aan my verduidelik dat hy nog nooit saam met iemand nagmaal gevier het nie. Hy het nog net in die geheim daarvan in sy Bybel gelees. Ek wou nog vra hoe die man tot geloof gekom het en hoe ek hom kan help, maar toe kom ’n derde persoon ingestap. Die man het so vinnig verdwyn dat ek tot vandag toe nie eens weet wat sy naam is nie.” Hulle almal vee trane af soos hy vertel. “Wanneer kan ons saamgaan, Pappa?” vra Markus. “Ek wens julle kan almal elke keer saam met my gaan en hierdie goed beleef,” antwoord Petrus. “Maar die tyd is nog nie reg nie, Markus.” “Wanneer sal die tyd reg wees, Pappa?” “Ek weet nie, my seun,” antwoord Petrus eerlik.
Daar is ’n gemeensame stilte soos hulle almal lê en dink oor wat Petrus gesê het. “Ek hoop Mamma sal eers saam met my gaan?” vra Petrus. “Gaan Mamma?” vra Talitha, dadelik bekommerd. “Ek bid nog daaroor, Talitha,” antwoord Salomé versigtig. “As die Here ja sê, wanneer sal Mamma gaan?” vra sy weer kinderlik bekommerd. “Ek weet nie, my skat,” probeer sy haar gerusstel. “Wel, daar is volgende jaar in April en Mei ’n geleentheid om te gaan. Ons beplan om ’n gebedsgroep bymekaar te kry vir daardie tyd,” antwoord Petrus. “Maar wat van skool?” vra Markus die vraag waaroor Salomé ook wonder. “Daar is sommer ’n klomp publieke vakansiedae en skoolvakansiedae wat saamval. Dan is dit makliker vir al die werkende mense om saam te gaan.” “O,” koor Markus en Talitha. “Na watter land toe gaan julle?” vra Salomé. “Egipte.”
“Egipte?” Lilly se hele gesig is vertrek van afsku. “Dis terrible daar. Eerste prys een week in Egipte, tweede prys twee weke, derde prys drie weke, en so kan ek aangaan!” “Hoe weet jy?” “O, ek was een keer daar met ’n stopover-vlug. Ek kan nie eens meer onthou waarheen was ek toe op pad nie, maar anyway, ek dag die piramides is hierdie amazing goed om te sien. Ag nee, asseblief! Molshope van berge, if you ask me. En al wat ek van die res kan onthou, was die verkeer in Kaïro. O mensdom, dis verskriklik. Dit vat jou ’n halwe jaar om van een plek na die ander te kom. En dis warm, ou girlie, dis woestyn, make no mistake.”
“As ek saamgaan in April is dit darem lente?” “Ja, ek was seker in die middel van die somer daar. Dan moet ’n mens eintlik die ander nice goed doen, soos om op die Nyl te vaar, laer af in Egipte, maar ons het nie genoeg tyd gehad om daarby uit te kom nie.” “Ek dink nie ons gaan vir vakansie nie. Ons gaan om te bid.” “O, so gaan jy dan?” Sy spot effens. “Ek besluit nog.” “Klink of jy klaar besluit het,” sê sy met opgetrekte wenkbroue. “Petrus wil baie graag hê ek moet saamgaan.” “Ja, man, doen dit vir hom. Dit sal great wees.” “Ek dag dan jy sê dis aaklig?” troef Salomé haar. “Ja, vir my was dit aaklig, maar dis nie te sê dit gaan vir jou so wees nie.” “Dis net die kinders. Ek wil regtig seker wees dat ek móét saamgaan, want dis moeilik om hulle hier te los.” “Ja, ek sal dit seker nog nie verstaan nie,” sê Lilly eerlik. “Ek sou sê, wat is nou so erg daaraan om jou kids vir tien dae by hulle ouma te los, of by my, for that matter? Om die waarheid te sê, dit klink vir my soos ’n honeymoon. Hoe meer ek daaraan dink, hoe sekerder is ek dat as ek jy was, ek sou saamgaan. Al is dit nou Egipte.” “Ons gaan bid, nie honeymoon hou nie,” gooi Salomé wal. “Whatever! As ek so lank soos jy sonder my man was elke jaar, sou ek saamgaan, selfs al moet ek gaan skottelgoed was.” “Dit gaan ons heel waarskynlik ook doen. ’n Mens gaan om die gelowiges daar te gaan dien,” haal sy Petrus aan. “Nee, wat. Ek dink jou mind is opgemaak. Nou moet ons nog net ’n plan maak met jou kids. Ek sal hulle ’n paar dae kan vat en as jou ma dalk …”
“Hokaai, Lilly,” keer Salomé laggend. “Ek is regtig nog nie seker nie. Maar sodra ek is, sal ek jou laat weet en dan kan jy help planne maak.” “Ek ken ’n besluit as ek een sien. Ek hou solank die datums oop,” sê sy beslis.
“Wat dink Tannie?” vra Salomé oor die telefoon aan tannie Marié. “Ek dink dis ’n wonderlike geleentheid, my kind, maar ek kan nie vir jou besluit nie. Net die Here kan jou antwoord.” “Dit maak my bekommerd om die kinders hier te los, Tannie,” sê Salomé stil. “Sê nou ons kom iets oor en hulle word weeskinders? Sê nou maar hulle kom iets oor terwyl ons weg is? Ek sal myself nooit vergewe nie.” “Wie pas ons elke dag op, Salomé?” vra die tannie sagkens. “En kan ons selfs net een dag by ons of ons kinders se lewe voeg? So of jy nou hier is of in Egipte, dis die Here wat jou kinders oppas, nie jy nie. Hou dit in gedagte wanneer jy jou besluit neem.” “Ek weet, Tannie, maar hulle is my eerste verantwoordelikheid.” “Daaroor moet jy mooi gaan dink, my kind. Miskien is jou man nou jou eerste verantwoordelikheid?” “Ja, maar hy is nie van my afhanklik nie!” “Ek weet, my kind. Maar as die Here jou na Egipte stuur, dan sal Hy jou kinders oppas terwyl jy weg is. Onthou, Hy is nog liewer vir hulle as jy.” “Ek glo dit met my kop, Tannie, miskien nog nie met my hart nie,” sê Salomé eerlik. “Dan wil die Here jou dit miskien juis deur hierdie ondervinding leer. Of jy Egipte toe gaan of nie, Salomé, ek sal aanbeveel dat jy jou kinders teruggee aan die Here. Anders gaan jy altyd dink dat hulle welstand van jou afhang. Maak dit sin?” “Ja, maar hoe doen ’n mens dit?”
“Deur dit hardop te bely: ‘Here, ek bely dat my kinders aan U behoort en dat U hulle net aan my geleen het. Ek bely dat U hulle oral bewaar, wanneer ek by hulle is en wanneer ek nie by hulle is nie.’ Ek moes dit elke nou en dan weer hardop bely om myself daaraan te herinner. Dit maak ’n mens vry van vrees en dit plaas jou verantwoordelikheid in die regte perspektief. Vrees kom nie van die Here nie. Dis die vyand se strategie.” Tannie Marié het ’n sagte dog ferm manier van praat, dink Salomé. Haar mening dra werklik gesag. Sy verwonder haar aan die tante. “Ek het nou te veel gepraat,” sê die tannie effens verskonend toe Salomé nie antwoord nie. “Onthou maar net, hartjie, hoe ouer jou kinders word, hoe meer maak hulle hul van jou los. Dit hoort so. Dis soos voëltjies wat leer vlieg. Daarom moet ’n mens hierdie beginsel van kleins af toepas, anders gaan jy dit baie swaar hê later.” Die aand toe Salomé by elke kind se kamer inloer of hulle slaap, vertoef sy langer. By elkeen se bed fluister sy ’n gebed. Die trane loop oor haar wange soos sy haar kinders opreg weer aan die Here toewy, maar iewers diep in haar gees is daar ’n verligting, spanning van ’n selfopgelegde verantwoordelikheid, wat stadig ontknoop.
“Sally, sien jy kans dat ’n Chinese sendeling en sy gesin ’n bietjie by ons kom bly?” vra Petrus ná werk. Haar gesig gee dadelik die antwoord, maar Petrus druk deur: “Hulle kom na Suid-Afrika om ’n klomp kerke te besoek. Ons het by die kantoor onderneem dat ons beurte sal maak om hulle by ons te laat tuisgaan en om hulle ’n bietjie rond te neem?” “Het ek ’n keuse?” “Ja,” antwoord Petrus tentatief. “Jy het altyd ’n keuse, maar dit sal dalk sleg lyk as jy nee sê,” antwoord hy met ’n vonkel in sy oog. “Dis net dat ek voel ek hou skaars by met alles wat ek moet doen en dan moet ek nog vreemde mense ook huisves. Verstaan hulle ooit Engels, watter soort kos eet hulle, waar gaan hulle slaap en moet ek hulle dan vermaak terwyl jy by die
kantoor is?” rammel sy voort. “Een ding op ’n slag,” keer Petrus met sy hande in die lug. “Ja, hulle praat Engels, eintlik taamlik goed ook. Hulle sal saam met ons eet, wat ons ook al eet. Ons kan een van die kinders se kamers vir hulle gereedmaak. Nee, ek sal nie verwag dat jy hulle heeltyd vermaak nie; ek sal nie heeldag op kantoor wees nie. Maar ons sal hulle wel na die gemeentes waar hulle praat, moet vergesel en miskien oor die naweek iets lekkers saam met hulle doen.” “Hoe groot is die gesin?” “Hulle het net een kind – ’n seun. In China mag mense net een kind hê.” “O.” Sy moes dit seker geweet het. “Ja, ek is seker ons kan Talitha se kamer vir hulle regmaak en miskien die seun by Markus laat slaap?” “Vir hoe lank?” “Seker so tien dae.” “Wanneer?” “Oor twee weke.” Mense in haar huis, haar ruimte, vir tien dae! Sy kyk stil na Petrus, wat sy eie bed sal opgee vir ’n vreemdeling, weet sy. Toe gee sy oor: “Goed dan maar.” “Dankie, Sally. Ek waardeer dit.” “H’m,” is al wat sy sê terwyl sy in haar kop begin beplan. Die aand in haar stiltetyd lees sy 2 Korintiërs 9:6: Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. Vader, help my om dit nie uit teensin of dwang te doen nie, pleit Salomé voor sy aan die slaap raak.
Hoofstuk 13
KAÏRO. NOVEMBER 2010
Saleh is so opgewonde soos ’n kind oor die besoek. Uncle George en Sister Martha het belowe dat hulle teen laatmiddag sal kom. Blykbaar was daar eers aan en af geen agtervolgers nie, en nou blyk dit dat hulle die afgelope week heeltemal moed opgegee het. Sister Martha-hulle sal ná werk per bus kom en dan by dieselfde halte afklim as sy vroeër. Sy mag hulle egter nie daar gaan ontmoet nie. Hulle sal met ’n ompad hierheen kom. Saleh het al tien keer seker gemaak dat die koffiekoppies reggepak en die woonstel eksie-perfeksie is. Nou moet hulle net kom. Sy sit later net stil op die bank en wag, en toe die klop aan die deur uiteindelik kom, skrik sy eintlik. Op haar gekousde voete draf sy na die deur toe en pluk dit oop. Toe ruk sy soos sy skrik. “Hallo,” groet die gesette vrou voor haar. “Ek het gedink hier is iemand wat in John en Anne se woonstel bly, maar elke keer as ek klop, was jy uit. Is jy familie?” Saleh, verstyf van die skok, is stomgeslaan. Sister Martha verskyn in die hysbak se deur. “Hallo, Miriam!” groet sy luidrugtig in die vrou se rigting. Dadelik draai die vrou om na Sister Martha en soen haar hartlik op albei haar wange. Sister Martha maak groot oë vir Saleh oor haar skouer. Saleh trek haar skouers op en skud haar kop. Uncle George stap ook nader en groet Miriam en knoop ’n geselsie aan. Sister Martha stap vinnig na Saleh toe en druk haar styf vas. “Weet sy wat jou naam
is?” fluister sy in haar oor. “Nee, ek het gedink dis julle wat klop, toe maak ek oop,” fluister sy bang terug. “Ek sien jy het ons vriendin ontmoet,” sê Sister Martha aan Miriam. “Ja, John en Anne moes langer in die VSA agterbly en hulle het gevra of sy sommer die woonstel sal oppas terwyl hulle weg is.” “O, nou hoekom moet hulle langer bly?” “Ag, jy weet mos van Anne se gesondheidsprobleme.” “Ja, ai, siestog. En wanneer kom hulle dan?” “Ek is nie heeltemal seker nie, maar ons sal jou op die hoogte hou.” En daarmee kan Saleh sien, hoop sy om die vrou stil te maak. “En jy, hartjie, hoeveel weke is jy nou? Wanneer kom jou baba?” fokus Miriam op Saleh. Hulle gaan beslis nie so vinnig van haar ontslae raak nie. “Wel, e … ek is nou nege en twintig weke. Hy kom in Januarie,” antwoord Saleh toe sy haar stem terugkry. “Sjoe, ja, ek wil sommer alles hoor van hoe dit met jou gaan, Talibah,” sê Sister Martha aan Saleh. “Ons het mekaar so lanklaas gesien.” Die laaste sin laat val sy na Miriam se kant toe. “Nou maar dan groet ek eers, dat julle kan opvang,” vang sy gelukkig die skimp. “Ek sal by jou kom inloer, hartjie. Jy sê jou naam is Talibah? Ek is nou bly hier is ’n bietjie geselskap.” Toe hulle die deur agter hulle toemaak, begin Saleh sommer huil. “Ek is jammer. Ek was so seker niemand weet ek is hier nie. Ek probeer so stil soos ’n muis lewe.” “Toemaar, toemaar,” troos Sister Martha. “ ’n Mens moet darem bad en die toilet trek. Niemand verkwalik jou nie. Miriam is regtig onskadelik. Sy is die goedheid vanself. Ongelukkig net baie nuuskierig.” “Hallo, Saleh,” kry Uncle George uiteindelik ook ’n woord in en druk haar styf
teen hom aan. “Ons is so bly om jou in een stuk te sien.” Hy kyk haar warm aan. Sister Martha se oë blink toe sy na haar boepie kyk. “Kyk hoe mooi groei hierdie mannetjie van jou. Maar hy is al een wat groei. Sjoe, kindjie, jy het weggekwyn.” Hulle drink koffie en kuier, en sy vertel hulle elke detail van haar wedervaringe wat sy nie telefonies kon deel nie. Hulle luister verwonderd en gee telkens aan die Here die eer. Later eet hulle saam en die tyd dat hulle moet vertrek, kom veels te gou. Saleh wens sy kan die horlosie stop en hulle daar hou. Of hulle kan oorslaap? Maar vir haar veiligheid dink hulle steeds dit is beter dat hulle na hulle woonstel toe gaan, vir ingeval hulle agtervolgers môre dalk weer op hulle pos is. “Ten minste hoef jy nou nie meer te bekommer dat iemand jou sal sien of hoor nie. Miriam is ’n Koptiese Christen, betroubaar met John en Anne se sake hier, sover ons weet. Ek dink dit sal beter wees dat jy haar die waarheid vertel, maar geen regte name nie, dis baie belangrik dat sy nie name het om deur te gee nie,” waarsku Sister Martha. “Vir veiligheid gebruik ons nooit mense se regte name nie.” “Ja,” voeg Uncle George by. “Sy sal jou beskerm as sy weet wat aan die gang is en sy sal ’n storie kan uitdink om aan die bure te vertel.” “Boonop sal ek baie beter voel as ek weet hier is iemand wat ’n ogie oor jou hou,” sê Sister Martha besorg. “Ek is bang. Hoe lank nog voor ek kan skuif?” “Nou binnekort. Ons moet net seker maak alles is veilig by die vriende waarheen jy gaan en ons sal dit moet koördineer met John en Anne se terugkoms.” “Dink julle dat ek miskien die wagwoord van hulle rekenaar kan vra?” Sy sien hulle vraende gesigte. “Ek voel so afgesny van die wêreld en sou so graag op die internet wil ingaan?” “Wat wil jy op die internet soek?” “Ten eerste iets oor my man.” “Ons het al probeer, Saleh. Op Facebook en oral; daar is geen aktiwiteit nie.”
“Ek weet, maar só kan ek op hospitale en lykshuise se webwerwe ook soek.” Stilte. Die realiteit maak hulle ongemaklik. “Ek is net bang jy word gevind. Dit werk so goed met jou hier naby ons waar ons weet jy is versorg en veilig.” “Ek sal versigtig wees. Ek wil begin babaname soek en net toegang hê tot die wêreld. Ek sal hulle betaal vir die toegang?” “Jy kan nie met enige van jou vriende kontak maak nie,” waarsku Uncle George. “Ek weet, maar dis ook vreemd dat ek niks van my laat hoor nie, nie waar nie? Of gaan ons maak of ek dood is?” “Ons weet nog nie presies nie. Ons steek jou weg tot ons dink dis veilig en ons almal by die Here hoor wat Hy vir julle beplan. Die vriende wat jou by die kantoor gebel of gesoek het, dink julle is met langverlof. As hulle gedink het dis vreemd, het hulle niks gesê nie. Hulle het gevra waar julle is en vir hoe lank, maar ons het ons dom gehou.” Saleh sê liefs niks oor haar vriendin in die winkel nie. “Asseblief, sal julle by John en Anne hoor?” Huiwering. “Goed,” sê Uncle George. “Ek sal by hulle uitvind.” Sy gaan onophoudelik bid dat John en Anne sal instem. Toe hulle groet, sak ’n koue eensaamheid oor haar neer, amper erger as voor hulle gekom het.
Sy slaap nog toe die klop aan die deur kom. “Talibah!” Saleh hoor die geroep van ver af, maar registreer nie dadelik dat dit na haar is wat daar geroep word nie. Eers ná ’n paar “Talibahs” spring sy op en maak die voordeur deur die slaap oop. Miriam staan voor haar met ’n skinkbord tee en ontbyt. “Hallo, hartjie! Ek het
gisteraand gesien jy is brandmaer verhonger alleen hier in die woonstel, toe bring ek vir jou ’n lekker ontbyt. ’n Mens kan g’n niks ’n baba aan die gang hou met so ’n maer lyfie nie.” Miriam stoomroller sommer na binne terwyl sy praat. Saleh moet glimlag. Daar word gesê dat die Egiptenare gasvryheid in kilogramme weeg en dit is duidelik wanneer sy na die skinkbord kyk. “Dankie, Miriam. Dis baie vriendelik van jou.” Sy vee verleë oor haar hare en kyk af na haar gashere se kamerjas wat sy vinnig aangetrek het. “Ek gaan net gou iets anders aantrek.” “Neem jou tyd, hartjie. Ek weet ek is vroeg, maar ek wou nie die kans vat dat jy klaar geëet het wanneer ek hier aankom nie. Het julle darem lekker gekuier gisteraand en het jy goed geslaap?” rammel sy voort terwyl Saleh kamer toe verdwyn. “Ek het altyd so sleg geslaap met my swangerskappe; ure rondgerol van ongemak, moes hoeveel keer opstaan om ’n draai te loop. Dan weer al die baie kussings rondom my verstel en natuurlik een onder my voete wat so vreeslik geswel het. Later was my man so keelvol vir my nagtelike aktiwiteite dat hy gesê het hy is baie lief vir my, maar hy moet sy slaap inkry. Trek toe mooitjies na die spaarkamer toe. Maar moenie dink hy het teruggetrek ná die geboortes nie. O nee. Daardie eerste paar weke met die babas wat so wakker word in die nag was ook nie vir hom nie. Nee, hy slaap toe sommer nog ses weke in die spaarkamer. Tot ek eendag vir hom sê: ‘Kyk, jy kies nou: óf jou vrou en jou baba óf die spaarkamer vir die res van jou lewe. Jy het gehelp om hierdie baba te maak, jy gaan help om hom groot te maak, anders is daar nooit weer ’n baba nie.’ Toe trek hy maar weer terug. Waar is jou man?” vra sy soos Saleh weer by die vertrek instap. “E … wel, ek weet nie.” “O?” wag Miriam vir ’n verduideliking. “Dis ’n lang storie.” “Nou toe, ek het baie tyd. Maar kom sit eers en eet, dan eet ek sommer saam met jou terwyl jy vertel.” Daar is ’n kort, ongemaklike oomblik nadat Saleh ook gaan sit het. Sy steek haar hand na Miriam uit. “Kom ons vra die seën.”
Toe Miriam haar hand verras na Saleh toe uitsteek, sien sy dit: ’n tatoeëermerk van die kruis op haar pols, die kenteken dat sy ’n Koptiese Christen is. “Vader, in die naam van Isa vra ons dat U die kos sal seën. Seën ook vir Miriam wat dit voorberei het,” bid sy soos sy Uncle George altyd hoor bid het. Miriam kyk haar opreg geskok aan toe Saleh haar vertel van haar en Ashraf se geskiedenis. “Dis verskriklik.” Saleh knik net. “Om te dink dat hierdie arme klein bloedjie sonder ’n pa gaan grootword!” roep Miriam uit. Dit sny deur Saleh. “Ek hoop nog dat ons hom gaan opspoor,” sê sy ferm. “Natuurlik,” sê Miriam verskonend. “Ek bedoel maar net, soos dinge nou lyk … Maar is dit alles die moeite werd?” Saleh kyk haar vraend aan. “Kyk, moet my nou nie verkeerd verstaan nie. Ek wat as ’n Koptiese Christen grootgeword het, het al baie gewonder of dit alles die moeite werd is. Al die vyandigheid van die Moslems, al die haat en die minagting waarmee ’n mens daagliks behandel word. Maar ek is so gebore. Jy kan egter kies. En jy het gekies om jou man te verloor en dalk jou kind alleen groot te maak. Ek moet eerlik sê ek verstaan dit nie.” Sy skud haar kop. Die warmte van oortuiging spoel deur Saleh. “As jy eers so dood was soos ek, Miriam, so gebroke, so bewus van jou sonde en jy het dan ’n ontmoeting met die Almagtige, die Heilige en met sy Seun Isa se allesoorheersende liefde, dan kan jy nie anders nie.” Miriam kyk haar verwonderd aan. “Nee, so ’n ontmoeting het ek nog nooit gehad nie.” “Lees jy jou Bybel, of die Injeel?” “Nee! Die Koptiese priesters lees vir ons daaruit. Ek kan tog nie self daardie ou taal verstaan nie.”
“Maar wat van die Bybel in Arabies?” “Nee, ek is nie seker of ons dit mag lees nie.” “Natuurlik mag jy.” Sy hoor weer hoe Uncle George hierdie einste vraag van haar beantwoord het. “Dit is dan hoe God Hom aan die mens wil openbaar. Hoe anders gaan ons Hom ken as ons nie sy Woord lees nie?” “Ja, jy praat nou soos John en Anne, maar ek is ’n bietjie versigtig. Hulle is ook soos jy bereid om hulle lewe op te offer vir hierdie evangelie, soos hulle sê. Ek het met hierdie evangelie grootgeword en ek is beslis nie bereid om die offer te bring wat julle bring nie. Hierdie evangelie het vir my nog net swaarkry en hartseer op die hals gehaal. Maar dis die las waarmee ek gebore is. Ek het dit al aanvaar.” “Ek sal bid dat die Here jou hart oopmaak, dat Hy Hom aan jou sal openbaar as die God van liefde, wie se las lig en sy juk sag is.” “Sy las lyk nie vir my lig as ek na jou kyk nie.” “En tog kan ek dit dra.” “Nee, Talibah. Dit klink vir my na malligheid. Maar jou geheim is veilig by my. Ek sal iets uitdink om vir die ander mense te sê as hulle uitvra na jou, moenie bekommerd wees nie. Maar ek dink nog dis malligheid. As ek jy was, het ek sy familie gebel, gesê ek is jammer oor alles en my man teruggevra. Om sonder ’n man wat jou beskerm en vir jou sorg deur die lewe te gaan is verskriklik. Glo vir my. In die laaste jare het die aanslag op ons Koptiese Christene boonop erger geword. Weet jy van die aanvalle?” “Nie regtig nie, Miriam,” erken Saleh. Sy was vroeër min gepla oor die lot van die Koptiese Christene. “Ek weet net van die skietery met ’n fees vroeër vanjaar.” “Ja, dit was Kersfees, maar eers was daar die aanvalle in Oktober laas jaar, toe die honderde Moslem-studente van Al-Azhar Universiteit ons in Dairut aangeval het terwyl hulle ‘Allah Akbar!’ skree. Hulle het huise en kerke besteel en aan die brand gesteek.” Die trane begin oor Miriam se gesig biggel en sy doen nie die moeite om dit af te
vee nie. “Toe, net ’n maand later het ’n Moslem-bende van omtrent drie duisend mense die Koptiese winkels in Farshoot weer geplunder en aan die brand gesteek en toe boonop sewe vroue as gevangenes geneem.” Saleh sluit haar oë in afgryse. Almal weet wat gebeur met kafirvroue as hulle gevange geneem word. “Twee dae later het hulle die dorpie daar naby, Abou Shusha, se winkels ook geplunder,” vervolg Miriam. “Toe wil hulle mos hulleself regverdig en sê dat ’n Christen-man ’n seksuele verhouding met ’n twaalfjarige Moslem-meisie gehad het. In plaas daarvan dat die polisie die mense arresteer wat die moorde pleeg, gaan vermoor hulle die pa van die man wat die sonde sogenaamd gepleeg het en sleep sy liggaam deur die strate terwyl die massas hulle toejuig. Kan jy dink aan die skande vir sy familie?” Sy skud haar kop in meegevoel terwyl die trane van kwaad steeds oor haar wange loop. “Toe was daar daardie weerwraakaanvalle waarvan jy praat op 6 Januarie. Dit was in Nag Hammadi.” ’n Dorpie in die noorde van Egipte, weet Saleh. “Kersfees is vir ons ’n heilige fees waartydens ons die Messias, Isa, se geboorte herdenk, Talibah.” Saleh knik begrypend. “Toe daar ’n paar jong mans op Oukersaand die Koptiese Kerk verlaat, het gemaskerde Moslem-mans in ’n voertuig op hulle losgebrand met masjiengewere. Ses van hulle en ’n polisieman is gedood. Ses jong mans in die fleur van hulle lewe. Mans met ma’s en meisies wat vir hulle lief is. Net omdat hulle Kersfees wou vier? Nee, Talibah, as dit my seuns was, weet ek nie of ek daardie moordenaars ooit sou kon vergewe nie, al sê die priester ook wat.” Saleh luister net stil. “En dink jy die polisie gryp in? Dink jy daar is iemand wat vir ons opstaan, al maak ons tien persent van hierdie land se bevolking uit? O, nee. Ons mense het gaan treur en protesteer vir hierdie seuns se lewe terwyl die Moslem-bendes ons mense se huise en sakeondernemings plunder. Maar wat doen die polisie? Hulle arresteer meer as honderd Koptiese jong mense – sonder aanklagte.”
Saleh onthou dat die protesoptogte oor die TV-nuus was. Sy luister stil dat Miriam kan klaar praat. “Ons het begin dink daar is hoop vir ons as Koptiese Christene in Egipte. Ja, die Moslems het ons nog soos drek behandel, maar sedert die aanvalle in 2000, met die massamoord van die een en twintig mense in Sohag, en die gedurige aanvalle van die 1990’s, was daar vir lank ’n wapenstilstand. Maar nou begin alles net van voor af. Die afgelope tyd is daar weer baie meisies wat ontvoer word, vanaf so jonk as twaalf jaar oud, Talibah. Van hulle word gedwing om sogenaamde bruide van Moslem-mans te word. Die meeste van hulle wat uit die kloue van die monsters kan ontsnap, of wie se ouers dit regkry om die lospryse te betaal, vertel hulle is bedwelm en oor en oor deur bendes verkrag. Dit is om hulle te dwing om na die Islam-geloof oor te slaan, al is dit onwettig om die geloof af te dwing voor die ouderdom van agtien. Hoe kan ons in hierdie omstandighede aanhou lewe? Hoekom moet ons so swaarkry vir ’n geloof waarmee ons gebore is? En wie weet wat lê vir ons voor ná die verkiesing. As die MoslemBroederskap die houvas kry wat hulle beplan, is dit nag vir ons. Nee, ek weet nie meer nie.” Saleh weet nie wat om te antwoord nie, maar sy is diep onder die indruk daarvan. Op 28 November lê daar ’n parlementêre verkiesing vir Egipte voor. Tot in 2005 was president Mubarak die enigste presidensiële kandidaat waarvoor gestem kon word, met ’n eenvoudige ja/nee-stembrief. Hy het die afgelope vyf verkiesings met ’n oorweldigende meerderheid gewen, hoewel opposisiepartye altyd gesê het die uitslae is bekook. Boonop is sy jongste seun, Gamal Mubarak, al as die troonopvolger geoormerk. Die vorige opposisiekandidaat, Ayman Nour, is in hegtenis geneem kort voor die 2005-verkiesing. Niemand is toegelaat om die verkiesings te monitor nie. Die stempersentasie was omtrent net vyf en twintig omdat niemand meer enige vertroue in die sisteem het nie. Kandidate wat verbied word om in die parlementêre verkiesing te staan, is onder andere van die Moslem-Broederskap, ’n ekstremistiese Islamitiese beweging. Hulle laat hulle egter nie voorsê nie en ding mee om dertig persent van die stemme. Met hulle finansiële steun uit die res van die ryk Arabiese wêreld, staan hulle ook bekend as die bes georganiseerde party naas die regerende party. “Verlede maand ook nog daardie verskriklike bom by ’n kerk in Bagdad. Drie en vyftig mense is dood. Dis nêrens in die Midde-Ooste veilig vir Christene nie, glo my.” Miriam vee uiteindelik die trane van haar wange af. “Nee wat, ek weet nie
meer of dit alles die moeite werd is nie. Dis al twintig jaar sedert my man se dood en dit is verskriklik om sonder ’n man wat jou beskerm deur die lewe te gaan.” Laatnag spook hierdie woorde nog by Saleh. Dit voel of die woorde haar tart: Dit is verskriklik om sonder ’n man wat jou beskerm deur die lewe te gaan. Om en om kom dit na haar toe uitgeskree deur ’n massa bloeddorstige mense wat om haar saamdrom. Sy sien in haar droom hoe sy een van die sewe vroue is wat gevange geneem word deur die bende mans wat haar en die ander vroue in die strate afsleep. Hulle skree om hulp, maar die omstanders lag hulle uit. Trane loop oor haar wange toe sy uiteindelik wakker genoeg word om uit te roep: “In die naam van Isa, los my uit!” Soos Uncle George haar geleer het wanneer sy ’n nagmerrie kry. Natgesweet sak sy terug op die kussings terwyl haar hartklop stadig weer na normaal terugkeer. Sy het destyds niks omgegee vir daardie Koptiese mense van wie Miriam vanaand gepraat het nie. Met ’n harde hart het sy na daardie mense gekyk en gedink dit is alles hulle verdiende loon. Nou is sy in presies dieselfde posisie en sy het nie eens ’n man wat haar kan beskerm nie. “Here, vergewe my!” Ek is jou Maker en jou Man. Dit kom in die diep stiltes van die nag duidelik na haar toe. “Dankie, Here.” Maar sy huil haarself weer aan die slaap.
Hoofstuk 14
PRETORIA. NOVEMBER 2010
“Hoe gaan dit met jou gaste?” vra Lilly toe sy en Salomé pouse hulle toebroodjies eet. Salomé se toebroodjie lyk weer bra vervelig teen Lilly se eksotiese seekos-eniets-anders-skepping. Dit ruik net ’n bietjie vreemd … Salomé onderdruk ’n glimlag. “Goed, dink ek. Maar dit is effens ongemaklik. Die hele atmosfeer verander as ’n mens vreemde mense in jou huis het.” “Ek kan dit net imagine. Voel dit nou soos Chinatown?” vra Lilly in ’n grap. “Nee, man. Dis net half vreemd in ’n mens se eie huis.” “Ja, ek verstaan. Ek spot maar net ’n bietjie. En hoe is hulle?” “Chinees,” antwoord Salomé aspris. “Ha-ha-ha,” antwoord Lilly droog. “Hulle is anders as wat ek gedink het sendelinge is.” “O?” “Ja, hulle is baie gewoon. Hulle lyk soos die tipiese Chinese toeriste wat ’n mens dikwels sien.” “Kamera oor die skouer?” lag Lilly. “Presies! Hulle neem die hele tyd foto’s. En hulle kind lyk net soos ’n gewone
tienerkind. Selfoon en oorfone en ek weet nie watse elektroniese goed nog alles nie. ’n Mens het seker gedink hulle sal arm wees. Nou lyk ons arm met ons stokou TV en rekenaar van kort duskant die Wêreldoorlog.” “Solank julle net nie agterlik lyk nie,” knipoog Lilly. “Wel, jy sê so, maar die vroutjie trek vreeslik modern aan; ek voel omtrent soos ’n tante uit die konsentrasiekampe,” lug Salomé haar onsekerhede. “Daai Chinese vroutjie lyk seker juis so goed omdat hulle klere so lekker goedkoop is. Made in China. Ek sê lankal ek sal jou kom help met jou klerekas,” sê Lilly ernstig. “Ek weet jy is bang dat ek jou gaan aantrek soos wat ek aantrek. Maar ek sal dit mos nooit doen nie, want dan is my unieke styl daarmee heen. Ons moet net jou klerekas bietjie opfaff, dis al.” “Jy weet ek het nie nou geld vir nuwe klere nie. Ek sit juis en stres oor Petrus se jaareindfunksie. Ek het nie ’n idee wat ek daarheen moet aantrek nie,” keer Salomé. “Ons hoef nie noodwendig nuwe klere te gaan koop nie. ’n Mens kyk eerder na nuwe kombinasies van dieselfde klere, minder van dieselfde pakkies bymekaar, of dalk moet iets net gekleur of korter gemaak word.” “H’m, ek roep jou dienste dalk nog in.” Maar Salomé is heimlik versigtig vir haar vriendin se flambojante styl. “Nou toe, dis ’n once in a lifetime-aanbod vir jou. Gratis en verniet. Ander mense betaal duisende vir my wyse raad,” lag Lilly toe die klok lui en hulle weer haastig moet terug klas toe.
Tuis kyk Salomé met ’n kritiese oog na haar klerekas. Goeie, bruikbare klere van die afgelope tien jaar. Niks besonder modieus of fantasties nie. Die paar aandrokke is al oor en oor gedra na elke funksie waarheen sy en Petrus genooi is. Sy kan dit wraggies nie weer na die jaareindfunksie toe dra nie. Goeiste, as Lilly iets hiermee kan uitrig, dan is sy haar sout werd, besluit Salomé en maak die kasdeur toe. Sy SMS vir Lilly: Ek dink jy moet my klerekaskrisis kom help uitsorteer.
Wanneer sal jou pas? Die antwoord kom dadelik. Ek het toevallig nou ’n tydjie oop om jou tussen al my klerekaskliënte in te pas. Ek is oor 20 min daar. Kan net nie Chinees praat nie. Sy moet glimlag vir haar vriendin. Twintig minute later lui die klokkie en Lilly wapper vrolik binne. “Hallo, goeiedag, dumela en good day,” groet sy die Chinese gaste en hulle glimlag dadelik van oor tot oor en lewer onder mekaar kommentaar in Chinees. Hulle maak ’n paar geselsies in Engels en toe stap Salomé en Lilly gangaf na haar klerekas toe. “Operasie Optert. Hier begin ons!” kondig Lilly aan. “O gonna, wat het ek gedoen?” kreun Salomé. “Jy’s in goeie hande, moenie stres nie.” Lilly begin by haar rokke. “Daar kan geen salf gesmeer word aan dié een en dié een en dié een nie,” wys sy. “Dit is al ’n dekade oud, as ek dit nie mis het nie?” Sy kyk vraend na Salomé, wat skuldig knik. “H’m, thought so. En dit laat jou soos ’n Midde-Oosterse sendeling se vrou lyk. Jy kort nog net die dissipelplakkies daarby.” Lilly verwys na ooptoonriempiesandale wat twee dekades gelede in die mode was. Dis presies hoe ek nie wou lyk nie! dink Salomé. Ek sal deur hierdie pyn gaan om seker te maak ek lyk nie weer so nie. Maar “Jy neem my begroting in ag, nè?” is wat sy hardop vra. “Liewer minder klere wat fantasties lyk as ’n kas vol klere wat nie werk nie. Jy kan nie bekostig om dié meer te dra nie; dit doen jou beeld geweldig skade,” sê Lilly ernstig en haal nog ’n rok uit. “Beeld, watter beeld?” lag Salomé. “Die een wat ons nou vir jou gaan create! Ag, en moenie skuldig voel oor die rokkies nie, daar is baie arm mense wat vreeslik bly gaan wees daaroor,” sê sy nonchalant. “O, ek is mal oor dié rok se materiaal, maar die styl is verkeerd vir
jou,” haal sy ’n volgende rok uit die kas. Sy het ’n punt beet, dink Salomé. Sy het ook die rok gekoop vir die materiaal. Sy begin veiliger voel. “Pas dit gou aan, dan kyk ons wat ons hiermee kan doen.” Salomé is ongemaklik. Hier? Sal Lilly eers uitgaan? Maar Lilly blaai verder deur haar klere. “Moenie oor my worry nie. Ek is tieties en boude gewoond.” “O, maar nie so min tieties en so baie boude soos myne nie.” “Jy moet werk met wat jy het, suster.” Dit word ’n vrolike middag van lag en grappies maak en boonop het Lilly werklik briljante idees. Sy neem stapels van Salomé se klere saam om te gaan verstel. “Ek bring dit sommer môre weer vir jou skool toe. Ek is nou so opgewonde om te sien hoe jy hierin gaan lyk,” borrel sy. “Jy’s regtig ’n geskenk van Bo, Lilly. Dankie. Ek haat naaldwerk,” sê Salomé ernstig. “Dis vir my net ’n plesier. Maar nou moet jy eers vir my ’n stywe dop gooi, want my gô is nou uit en ek gaan seker deurnag werk.” “Die styfste dop in ons huis is Coke,” waarsku Salomé. “Styf genoeg vir my. Gooi, suster.”
Die aand borrel Salomé behoorlik om vir Petrus te vertel van haar middag met Lilly. “Lilly doen jou goed,” glimlag hy. “Ja, ek geniet haar vreeslik.” “Ek is net bekommerd oor my begroting?”
Salomé wil-wil haar vervies. Wanneer laas het sy iets vir haarself gekoop? Hulle onthaal vreemdelinge op hierdie begroting, maar sy kan nie eens klere koop nie? Sy byt op haar tong en hou haar in. “Nee wat, sy het net nuwe skoene en hier en daar ’n bykomstigheid aanbeveel. Sy weet hoe om te werk met ’n begroting. Ons het selfs iets gevind vir die jaareindfunksie.” “O, dit. Wel dis nie meer nodig nie.” “Hoe so?” vra sy skoon afgehaal. “Ons gaan nie meer ’n deftige aandfunksie hê nie.” “O?” “Jip, ons gaan sommer piekniek hou in die botaniese tuine.” “O.” Salomé is regtig teleurgesteld. Die feit dat sy ’n uitrusting vir die funksie het, het haar selfvertroue gegee. “Sjoe, julle bestee omtrent ’n fortuin om julle mense te beloon vir die harde werk van hierdie jaar,” spot sy sarkasties. “My voorstel,” pleit hy skuldig. “Dis vir my baie moeilik om te dink ons bestee ’n klomp geld aan ’n jaareindfunksie en daar is vriende van my in die geslote lande wat vanaand nie ’n veilige plek het om te slaap of iets om te eet nie.” Sy ken al hierdie redenasie. Dis die ritme van hulle lewe. Dis die redenasie waarvolgens bykans elke finansiële besluit in hulle huis geneem word. “Ek het buitendien gedink dit sal lekkerder wees as die kinders kan saamkom en buite speel as wat ons almal tog opers vir ons kinders moet vind,” vervolg hy. “Ja, dis waar. Maar ’n aand alleen uit saam met jou is ook lekker.” “Ek besef dit. Maar dan doen ons dit alleen, nie saam met my werksmense nie. Reg so?” Hy gee haar ’n drukkie. “Dis ’n afspraak.” “Kom, ons gaste wag seker vir ons.”
“Ja, ek het maar opgegee met die roerbraai, want ek kry dit nie so lekker reg nie. Vanaand maak ek bloot hamburgers.” “Goeie plan,” lag Petrus. “Ek dink ons kinders gaan ook beter vaar daarmee.” “Gepraat daarvan,” keer Salomé toe hy begin wegstap. “Talitha lyk nie vir my lekker nie. Sy was regtig lelik met die boeties vanmiddag. Die gaste in haar spasie knou haar ’n bietjie.” “Goed, ek sal dit dophou en ’n bietjie met haar gesels.” “Dankie.”
Solank Petrus by is, vlot die gesprek en kuier hulle heel lekker met Wang, Shiao Hua en hulle seun Tao Li. Hulle vertel met hulle vreemde aksent van hulle ervaringe in China en hoe hulle Afrika beleef. Die grootste verrassing vir Salomé is hoe gewoon hulle is. Chinees ja, maar net gewone mense. Sy is altyd ’n bietjie skrikkerig vir die sendelinge waarvan Petrus so baie praat se supergeestelikheid. Sy is bang sy sal by hulle afsteek. Hulle bedank haar oor en oor vir die kos en haar gasvryheid. Sy weet nie eintlik of sy so vreeslik gasvry is nie; sy hoop maar net sy doen alles reg soos dit van haar verwag word. Die kinders is later in die bed en Petrus het ’n ruk met Talitha sit en gesels. “Sy sal reg wees; dis net ’n bietjie ongemaklik vir haar,” lig hy Salomé in. “Haar persoonlike ruimte is vir haar baie belangrik. Maar ons moet ons kinders van kleins af leer ’n mens moet bereid wees om ook dit wat vir hulle belangrik is, op te offer vir die Koninkryk. Veral hulle gerief, Salomé. Anders sal hulle ook nooit hulle hande uit hulle warm sakke wil haal nie, soos so baie kerkgangers.” Petrus is reg. Dit bly egter moeilik om jou kinders te sien swaarkry. Sy is dankbaar om die kamerdeur te kan toetrek. Die gekuier en die regstaan vir die gaste maak haar moeg. Sy sê egter niks. Môre begin haar dag weer vroeg, maar ten minste met ’n nuwe klerekas, of so voel dit. “Dankie, Salomé,” sê Petrus. “Jy doen baie moeite met hulle en ek waardeer dit.”
Sy kyk dankbaar vir hom. Op die ou end doen sy dit tog om hom tevrede te stel. Hy slaan die Bybel oop en lees vir hulle vir aandgodsdiens: “Matteus 10:40: ‘Wie ’n profeet ontvang omdat hy ’n profeet is, sal ’n profeet se beloning ontvang; en wie ’n goeie mens ontvang omdat hy goed is, sal ’n goeie mens se beloning ontvang. Wie aan een van hierdie geringstes net ’n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sal sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.’ “Kyk nou net wat sê die Here vanaand vir ons!” roep Petrus opgewonde uit. “Ons dien ’n lewende God.” Later in die donker bid Salomé. Jammer, Here, dat ek gasvry was om dit vir my man te doen en nie vir U nie. U beloftes en u genade is groot. Dankie dat U belowe het U sal ons in elk geval daarvoor beloon. Ek verdien dit nie, maar dankie.
Hoofstuk 15
KAÏRO. NOVEMBER 2010
Miriam kom daagliks kuier. Dit maak die dae aansienlik korter vir Saleh. Hulle eet elke aand saam aan die kos wat Miriam vir hulle kook. Saleh het nou glad nie meer nodig om die woonstel te verlaat nie, want Miriam het aangebied om die inkope namens haar te doen. Daaroor is Saleh veral dankbaar, want met haar groot buik raak dit regtig moeilik om ver te stap. Boonop kook Miriam heerlik en word haar magie dus nog vinniger groter. “Jy begin beter lyk, meisiekind,” merk Miriam een aand op toe Saleh vir haarself ’n tweede porsie skep. “Dis jy wat so lekker kook,” glimlag sy. Wanneer laas het sy geglimlag? tref dit haar. Dit is asof Miriam dit ook opgemerk het, want sy kyk skewekop na haar. “Jy begin regtig beter lyk.” “Dis nie net die lekker kos nie, Miriam,” begin sy huiwerig. “Dis ook die goeie geselskap.” Miriam blom oor die kompliment. “Ag, ek doen maar net my Christelike plig. Jy sou dieselfde vir my gedoen het.” “Ek weet nie of ek sou nie,” kom Saleh se eerlike antwoord. Sy dink aan haar vroeëre selfsugtige lewe wat maar net om haar en Ashraf gedraai het. “Ek is ook maar eensaam hier op my eie, dus waardeer ek jou geselskap net so baie,” sê Miriam effe emosioneel. “Maar ons gaan nou nie staan en grens op hierdie aand nie. Ek wil hoor wat jy op die internet gevind het?”
Sy was so dankbaar toe Uncle George vir haar die wagwoord van die rekenaar in die woonstel laat weet het. “Ek het elke lykshuis en hospitaal se webwerf deursoek, maar daar is geen teken van my man nie.” “Wel, dis goeie nuus, nie waar nie?” antwoord Miriam optimisties. “Seker,” antwoord Saleh huiwerig. “En wat van die babaname?” verander Miriam die onderwerp. “Ag, ek kan nie besluit op ’n Bybelse naam of ’n Arabiese naam met ’n goeie betekenis nie.” “Hoekom vernoem jy nie net jou man nie?” “Hy reken dis simpel om twee mans met dieselfde naam in een huis te hê. Dan word die een gewoonlik Klein Hakim, of so iets,” noem sy ’n voorbeeld. “Ja, dis ook waar. Maar wat as hy nie terugkom nie?” Saleh weier nog om enige besluite oor so ’n moontlikheid te neem. “Hy sal terugkom.” “Skuus, Talibah, ek bedoel maar net …” “Maak nie saak nie. Ek wens net hy was hier om saam met my aan ’n naam te dink. Ons het daaroor begin praat, maar nog glad nie by iets definitiefs uitgekom nie. Wat as hy nie hou van die naam wat ek kies nie? Wat as hy nie betyds is vir die geboorte nie?” Skielik is dit soos ’n damwal vrese wat breek. “Miriam, ek wil mal word as ek dink ek moet sonder hom hierdie baba in die wêreld bring. Waarheen moet ek gaan vir die bevalling sonder dat sy familie my opspoor? Hulle weet die baba kom in Januarie. Wat as hulle die hospitale laat weet het om hulle in te lig as ek kom en dan steel hulle ons baba?” Sy huil nou onbedaarlik. “Toemaar, Talibah. Toemaar.” Miriam sit haar arms om haar en troos haar soos ’n ma. Dit laat Saleh net nog meer huil. Dit en die feit dat dit so onbeskryflik vreemd en spesiaal is dat ’n Koptiese vrou nou haar ma se rol inneem.
“Ek het self vier kinders in die wêreld gebring. Ek het ’n goeie idee wat moet gebeur. Ek sal uitvind of ons nie ’n vroedvrou kan kry om ons te kom help met ’n tuisgeboorte nie.” “Dis net nie hoe ek my dit voorgestel het nie. Ek het gehoop ons kan na die Amerikaanse Christen-ginekoloog toe gaan wat my vroeër ook gehelp het. Sy werk hier by ’n hospitaal in Kaïro.” “Ken George en Martha haar?” vra Miriam. “Ja, hulle het my destyds na haar toe geneem.” “Dan dink ek nie jy hoef jou daaroor te bekommer nie. Hulle kan mos met haar reël. As dit te onveilig is in die hospitaal kan hulle haar mos vra om hierheen te kom?” “As ek nog hier gaan wees.” Miriam kyk vraend. “Uncle George-hulle wil my skuif. John en Anne kom in ’n stadium terug en dan kan ek nie meer hier bly nie.” “Sê wie?” roep Miriam uit. “Weet jy hoe baie mense het hulle al gehuisves?” “Ek ken hulle nie eens nie.” “Dit maak nie saak nie. Hulle huis en harte staan altyd oop.” “Ek weet darem nie …” “Ek het dan nou so uitgesien om weer pop te speel met hierdie baba,” sê Miriam en vryf moederlik oor Saleh se ronde magie. “Ek weet regtig nie, Miriam. Uncle George-hulle het gesê hulle wil my skuif sodra dit veilig is. Ek vertrou hulle sal die beste besluite neem.” Waar sy vroeër uitgesien het om te skuif lyk die bekendheid van die woonstel nou na ’n veiliger opsie. “Nou toe, kom ons bekommer ons nie nou daaroor nie. Sit asseblief die TV aan
dat ons na die aandnuus kan kyk,” sê Miriam toe sy op die muurhorlosie kyk. Die hoofnuus handel steeds oor die verkiesings. Daar is vier honderd vier en veertig setels en dan is daar in hierdie verkiesing vier en sestig addisionele setels vir vroue gereserveer, iets wat nog nooit in die verlede gebeur het nie. Verder is daar tien setels wat deur die president aangewys word; in totaal dus vyf honderd en agtien setels. Weer eens dreig die Moslem-Broederskap om die verkiesing te boikot as alles nie na hulle sin verloop nie. “Laat hulle maar die verkiesing boikot!” roep Miriam uit. “Ons kan doen sonder hulle in hierdie land se regering.” “Die probleem is, hulle ken die hart van die mense.” Hulle berig dat die Moslem-Broederskap druk wil uitoefen en wegdoen met die noodtoestand wat al sedert 1981 in werking is ná die sluipmoord op president Sadat. Die noodtoestand het aan die polisie uitgebreide mag gegee. Betogings is onwettig gemaak, sensuur kon toegepas word en daar is ’n verbod geplaas op niegoedgekeurde politieke groepe soos die Moslem-Broederskap. Die groep het egter in die vorige verkiesing as onafhanklik geregistreer en só onder die dekmantel van die onafhanklikes die grootste opposisie van die regering in Egipte geword. “Wat sal van ons word as die Moslem-Broederskap die meerderheid kry in die verkiesing, Talibah?” vra Miriam. Saleh skud net haar kop in afgryse. Die probleem is dat die Moslem-Broederskap bekend is daarvoor dat hulle die sharia-wette van Islam afdwing in die lande waar hulle regeer en hulle dit ten doel stel om al die Islamitiese Arabiese nasies te verenig. Hierdie Islamitiese wêreldnasie noem hulle die umma. Hulle leuse is: God is ons doel, die Koran is ons konstitusie, die Profeet is ons leier, en dood ter wille van God is die hoogste van ons aspirasies. Hulle skroom nie om by ander lande se interne sake betrokke te raak nie, vandaar die wydverspreide Arabiese betrokkenheid van ander nasies, ook in Egipte. Vroeër het die gedagte aan hierdie wêreldnasie Saleh ’n gevoel van mag gegee,
’n snobisme teenoor ander nasies. Nou weet sy dit is ’n mag om mee rekening te hou, en sy en Miriam staan aan die verkeerde kant daarvan. As die Koptiese Christene sleg gevaar het onder die huidige regering, sidder Saleh om te dink hoe Egipte sal verander as die sharia-wette ook hier aanvaar word. Om nie eens te praat van Christene met ’n Moslem-agtergrond soos sy en Ashraf nie. Onder sharia kan hulle die doodstraf kry. “Miskien sal die polisie ons nie meer terroriseer nie,” sê Miriam. “Van kwaad na erger,” reken Saleh sinies. “Ek wil nie verder kyk nie, ek gaan liewer slaap,” groet Miriam. “Nag, Talibah.” “Lees jou Bybel vanaand, anders raak jy met hierdie aaklige gedagtes aan die slaap,” raai Saleh haar aan. “Miskien sal ek,” is Miriam se tentatiewe antwoord.
Miriam storm by haar in. “Skakel die BBC-kanaal aan, Talibah, gou!” Saleh doen dit dadelik. Hulle volg juis nou die Egiptiese verkiesing en die gebeure wat daarmee saamgaan. Die Egiptiese sekuriteitsmagte het die Sint Mary’s-kerk in Talbiya, ’n arm dorpie in Giza, afgekordon. Polisiemagte beweer dat dit onwettig is om die kerk verder te herstel. Nou is daar duisend of meer Koptiese Christene wat protesteer teen die polisie se inmenging. Hulle is vroeër deur regeringsamptenare verseker dat die kerk se konstruksie goedgekeur en hulle permitte geldig is. “Ek was al self in daardie kerk, saam met my suster,” sê Miriam kwaad. “Dis sy wat my nou net gebel het om te sê wat aan die gang is.” Die volgende oomblik wys die TV-skerm hoe daar deur die polisie op die ongewapende massa geskiet word. Mense skree en spat in alle rigtings. Die skare reageer woedend deur klippe na die sekuriteitsmagte te gooi en Saleh sien in afgryse hoe nog skote deur sommige lede van die polisie afgevuur word terwyl ander selfs die klippe begin teruggooi na die skare.
“Hierdie verkiesing is soos dinamiet wat wag vir ’n vuurhoutjie,” sê Saleh. Toe die polisie traangas na die massa gooi, spat hulle uitmekaar – só dat Saleh bekommerd is hulle sal mekaar vertrap. Toe sy en Miriam later elkeen met ’n beker tee sit, die TV steeds aangeskakel in die hoop om nog nuus te hoor, sê Miriam: “Wel, ten minste sal die wêreld nou sien dit is nie net die Moslems van hierdie land wat ons terroriseer nie, dit is die polisie self wat ons uitmoor. Hulle wat ons moet beskerm, is kop in een mus met die res van die gespuis. As ek die kans gehad het, of jonger was, het ek wraggies uit hierdie land probeer ontsnap,” voeg sy bitter by. “Waarheen sal jy gaan?” vra Saleh. “Ek weet nie. Amerika, Europa. Enige plek wat my sal vat. Maar ek wil hê my kinders en kleinkinders moet saamkom, en dit is moeilik. Jy weet self, Talibah, vir ’n Koptiese Christen om wettig uit die land te kom is bykans onmoontlik. Ek sal nog my lewe waag, maar nie dié van my kinders nie. Maar as die land só lyk, dan wonder ek wat is vir ons beter.” Later berig die TV dat vier Koptiese Christene gedood is deur die lewendige ammunisie wat gebruik is en een kind van vier jaar oud het in die traangas verstik. Saleh huil saam met Miriam. “Nie eens rubberkoeëls nie, lewende ammunisie! En dit vir ’n kerk wat wettig herstel word. Ek weet nie meer nie, Talibah.” Honderd ses en tagtig Koptiese Christene is gearresteer, word later berig. Saleh weet dit sal nie oor die plaaslike TV-nuus uitgesaai word nie. Die kanale is gesensor deur die regering. Geen berig wat hulle in diskrediet sal plaas, word uitgesaai nie. Die telefoon wat lui, onderbreek haar gedagtes. “Kyk julle nuus, Saleh?” vra Sister Martha oor die foon. “Ja, dis verskriklik.” “Ja, die wêreld word warm.” ’n Oomblik stilte. “Ek het vir jou goeie nuus.”
“Wat?” “Hier het vir jou ’n brief gekom.” “Van wie?” “Van die een van wie jy die graagste wil hoor,” vermy sy sy naam. Saleh trek haar asem sterk in. “Regtig?” sy voel skoon duiselig. “Regtig,” lag Sister Martha. “Ek dink nie ek kan asemhaal nie,” sê sy inderdaad ademloos. “Maar ek kan niks verder sê nie. Ek sal dit deurstuur na jou nuwe e-posadres. Ek het dit oopgemaak omdat hy dit aan my ge-e-pos het.” “Dis wonderlik. Hy lewe!” roep sy deur haar trane uit. Miriam staan skielik langs haar met verwondering op haar gesig. “Ons vertrou so. Ek stuur dit dadelik.” “Dankie, dankie, dankie, dankie, Vader God. Dankie,” fluister Saleh. Sy sak in ’n hopie op die mat neer en huil die verligting van maande en maande se spanning uit. Miriam vryf oor haar rug terwyl die trane ook uit haar oë loop. ’n Kwartier later sit Saleh op die bank met die kosbare brief waarvan sy ’n drukstuk gemaak het. Miriam het haar in vrede gelaat sodat sy die oomblik alleen het met haar brief. Sy huil al die afgelope kwartier onophoudelik van vreugde, sodat sy nou sukkel om deur die trane deur op sy bekende handskrif te fokus.
My liefste vrou Ek kan net bid dat hierdie brief veilig in jou hande kom en dat jy en my seun nog gesond en veilig is. Ek bid en verlang elke oomblik van elke dag na jou (julle).
Saleh huil nou weer so dat sy glad nie op die woorde kan fokus nie. Sy moet eers weer opstaan en haar neus gaan blaas.
My lief, ek wens so dat ons bymekaar kan wees. Ek wens so dat ek kan sien hoe ons baba in jou liggaam groei, maar vir eers is dit onmoontlik. Ons Vader het my lewe op ’n wonderbaarlike manier gespaar. Dit was die vreeslikste maande wat verby is. Ek was ’n gevangene in my ouers se huis. Hulle het my geslaan en my gedwing om bedags te vas tydens Ramadan. Hulle wou my net genoeg gee om my aan die lewe te hou sodat ek my kan “bekeer” en die shahadah kan resiteer. Hulle het my vertel dat hulle jou gevang het en jou ook in aanhouding hou tot jy jou weer na Allah bekeer. Meestal kon ek dit regkry om dit nie te glo nie, omdat ek seker was ons Vader steek jou weg en beskerm jou, maar daar was tye wat die twyfel ondraaglik was en ek mal wou word daarvan. Op die laaste dag van Ramadan het my ouers en broers my ondertoe laat kom. Ek was skoon verras deur hulle vriendelikheid. Hulle het gesê ek moet die fees saam kom vier. Ek moes seker van beter geweet het, maar my weerstand ná ’n maand van aanhouding was baie laag. Ek het saam met hulle fees gevier, maar as ek terugdink, besef ek dat hulle telkens vir my opgeskep het. Ek het saamgeëet en niemand het weer iets genoem van ons geloofsverskille nie. Ek het aanvaar dat dit welwillendheid in die gees van die fees was. Kort daarna het ek egter baie sleg begin voel. Eers het ek gedink dat ek dalk te vinnig te veel geëet het. Ek het later dubbel gevou van die pyn en dis die laaste wat ek kan onthou. Die vriend van ons wat jou ook gehelp het om te ontsnap het later die nag vanaf die toeristeboot gesien hoe mans ’n liggaam van die Nyloewer af in die water rol. Hulle was senuweeagtig en is dadelik weer weg. Hy het gaan ondersoek instel en my in die vlak water gevind, skaars nog aan die lewe. My eie familie het my vergiftig en gelos om te verdrink. Hy het hulp ingeroep en met my na die naaste hospitaal toe gejaag, waar hulle my maag leeggepomp het. Hy het my baie vinnig weer laat ontslaan en na ’n ander kliniek geneem, omdat hy bang was my familie spoor my op. Ek was blykbaar ’n week lank daar, maar kan niks daarvan onthou nie. Sedertdien het die vriend my in sy huis geneem en versorg.
Alles op sy onkoste, soos die Barmhartige Samaritaan in die Injeel. Gaan lees dit gerus weer. Ek was vir lang rukke net bewus van die Vader se teenwoordigheid en verlange na jou. Dit en natuurlik die geweldige pyn. Maar ter wille van Hom is alles die moeite werd. Ek was so verlig toe hy my vertel het van jou ontsnapping. Ons is albei ons lewe aan ons vriend verskuldig.
Saleh huil nou weer onbedaarlik.
Ek is nog nie sterk nie. Ek kan die brief met moeite skryf en lees elke dag uit die Woord, maar dis al. Ek moet eers sterk word voor ek sal kan reis. Dit is ook steeds te gevaarlik vir jou om na my toe te kom en ek wil ook nie my vriend en sy familie se lewe in gevaar plaas nie. Hy het alreeds soveel vir ons gedoen. Ek het hom gevra om naamlose oproepe na jou werkgewer toe te maak, in die hoop dat hy só kan uitvind of jy lewe, maar die antwoord was net altyd dat jy met langverlof is. Ek vertrou dat hulle dit gesê het om jou te beskerm. As ek net op ’n manier ’n boodskap kan kry dat jy lewe en die baba gesond is? Ek het hom gevra om vir my ’n nuwe e-posadres te skep.
Dié het sy reeds gememoriseer.
Skryf asseblief vir my ’n e-pos van ’n nuwe e-posadres af wat jy ook skep? Jy sal mos weet hoe, nè? Dit behoort veilig te wees. Wees net baie versigtig, my lief. My familie dink dalk ek is dood, maar hulle sal aanhou soek na my seun. Moet asseblief nie waag om hierheen te kom of om deur ons vriend kontak te maak nie. Vir alle praktiese doeleindes is ek dood. Weet dat ek dag en nag na jou verlang. Al my liefde
Jou man
Hoofstuk 16
PRETORIA. NOVEMBER 2010
Die dag van die piekniek is ’n wolklose somersdag. Salomé trek ’n ou somerrok aan, wat so goed soos nuut gemaak is deur Lilly. “Jy lyk baie mooi,” sê Petrus waarderend, maar voeg effens bekommerd by: “Is dit nuut?” Salomé wil-wil haar vererg omdat hy al weer aan sy beursie dink, maar kry dit reg om kalm te sê: “Nee, kyk mooi, dis my ou rok wat Lilly net korter gemaak het.” “Sjoe, dit lyk splinternuut,” komplimenteer hy. “Dankie. Sy het regtig wonderwerke verrig met my klerekas.” Die kinders is opgewonde en reeds vroeg aangetrek en gereed om te gaan. Daar gekom, hardloop die seuns dadelik oor die wye grasperke en Salomé kan net glimlag. Sy moet toegee dat die botaniese tuine ’n goeie idee van Petrus was. Almal sit in ’n groot groep bymekaar, die Chinese gesin weer aan hulle sy. Hulle is nou al heel tuis by mekaar en dit maak sin dat Petrus hulle aan almal voorstel wat hulle nog nie leer ken het nie. Salomé sien dankbaar hoe sy kollegas moeite doen om met hulle gaste te gesels en uit te vra oor hul verblyf hier. Al voel Salomé nog dikwels soos ’n buitestander van die groep, kan sy eerlik sê dat sy nie meer so vreemd voel nie. Die nou al bekende gesigte groet haar ook vriendelik en vra hoe dit gaan. ’n Jong vroutjie sit vreemd eenkant. Sy trou binnekort met een van Petrus se jonger kollegas. Arme ding, dink Salomé. Weet sy waarvoor sy haar inlaat met
haar man se beroep? Sy stap oor om te gaan kennis maak. Salomé vra bietjie uit na die troureëlings en vra toe watse werk Jennifer doen. “Ek is ’n tandartsassistent.” Dan verdien sy ook nie ’n fortuin nie, besef Salomé. “Is dit jou seuns daar oorkant?” vra Jennifer, en wys na Alexander en Markus. “Ja, ek het ’n meisiekind ook, sy sit daar oorkant en gesels by die ander dogters.” “Jy’s gelukkig, Ek hoop ons het gou kinders,” sê Jennifer prontuit. “Gee eers kans,” lag Salomé. “Dis baie lekker om net eers ’n bietjie getroud te wees.” “Ja, maar Albert is so baie weg met reise. Ek wil nie alleen by die huis wees nie; dis aaklig.” Salomé kyk simpatiek na haar. “Ja, dit bly maar erg.” “Jy het darem kinders wat jou geselskap kan hou.” Die meisie is nog baie jonk; sy weet duidelik nie hoe dit is om so te sê ’n enkelouer te wees nie, dink Salomé. “Hoe lank werk jou man al hier, Salomé?” “Vandat ons getroud is, seker nou so vyftien jaar.” “Nee, ek weet nie hoe jy dit uithou nie. Tussen my en jou: Ek het eintlik al vir Albert gevra om ander werk te gaan soek,” vertel Jennifer sameswerend. Salomé hoor haarself praat, vyftien jaar gelede. Sy het ook altyd gewonder hoe doen die “veteraanvroue” dit met ’n span kinders. Sy glimlag. “Ek het net soos jy gevoel. Maar die Here gee ’n mens regtig krag, al klink dit soos ’n cliché. Ons taak is egter nie om druk op ons mans te plaas om dinge te doen soos dit ons pas nie, maar om hulle te ondersteun.” Kom dit regtig uit haar mond? Salomé is self effens verras.
Die meisie lyk afgehaal. “Ek weet net nie of ek kans sien vir hierdie tipe lewe nie.” “Ek is bevrees jy sal daarmee moet vrede maak voor julle trou,” sê Salomé ernstig. “As dit Albert se roeping is en jy voel so sterk daaroor, gaan dit altyd ’n knelpunt in julle huwelik wees.” “Maar wat as ek nie sy roeping deel nie? Ek is lief vir hom, maar ek haat hierdie reise!” roep Jennifer gefrustreerd uit. “Was jy al saam met hom?” “Nee, nog nie.” “Miskien moet jy dit oorweeg? Dit help jou miskien om perspektief te kry.” “Ja, maar ek het nie nou geld daarvoor nie,” antwoord sy vinnig. Salomé lag. “Wel, dan is jy in goeie geselskap. Niemand hier het geld vir reise nie. Ons leef maar almal in geloof en as die Here wil hê jy moet op so ’n reis gaan, dan sal Hy voorsien.” Salomé kan eintlik nie glo wat sy alles sê nie. En tog glo sy dit. Op ’n manier het hierdie pad tog haar geloof versterk. “Was jy dan al saam op reise?” vra Jennifer. “Voor ons kinders gehad het, was ek saam, ja. Maar ek bid juis nou daaroor of ek nie weer moet gaan nie.” “Is jy nie bang nie?” Salomé dink ’n bietjie. “Nee, ek is nie regtig bang nie. Ek is wel soms onseker of ek geestelik sterk genoeg is om saam te gaan. Hierdie ander mense voel vir my na sulke geestelike reuse,” antwoord sy eerlik. “Ja, ek weet wat jy bedoel. Maar die Here kan ons seker gebruik, ongeag hoe ‘geestelik’ ons is,” antwoord die meisie op haar beurt. Salomé kyk haar verras aan. Sy het dalk tog die nodige ruggraat. “Jy’s reg, weet
jy. Ek dink jy het vandag vir my ’n antwoord gegee,” sê sy vriendelik. “Ek sal bid dat jy ook ’n duidelike antwoord sal kry oor julle pad vorentoe.”
Op pad terug is die kinders stil. Oor die motorradio speel Mozart se “Andanté” en Salomé dink daaraan dat die vriendelike maar rustige musiek gepas is in die gemoedelike atmosfeer van moeg gespeelde kinders in die motor. Almal is in hulle eie gedagtes versonke. “Wat dink jy?” verbreek Petrus later die stilte tussen hulle. “Ek oorweeg dit om saam te gaan Egipte toe,” antwoord sy sag genoeg dat die kinders nie kan hoor nie. Sy wil hom vertel voor hy weer môre moet vlieg – sy laaste reis vir die jaar. Hy kyk ’n oomblik verras na haar. “Dis wonderlike nuus. Wat het jou so laat besluit?” “Eintlik my gesprek met Jennifer vandag.” “Albert se verloofde?” “Ja. Sy het my aan die dink gesit. Wang en sy gesin ook. Hulle is almal maar net gewone mense wat die Here gebruik, nie supergeestelikes nie.” “Wel, dis wonderlik. Ek is baie bly.” Petrus gee haar hand ’n drukkie. Hy lyk regtig bly, dink Salomé amper verras. “Ek bekommer my natuurlik oor die kinders en waar hulle gaan bly,” voeg sy by. “Ons sal ’n plan maak. Miskien by my ma-hulle by die see? Dit is mos skoolvakansie.” “Ja, maar hoe kom hulle daar? Dis baie ver om hulle daarheen te neem en weer op te laai?” “Jy’s reg. Ons sal daaroor bid en ek is seker die Here sal ons wys wat ons moet doen.”
“Hou dit maar net eers stil. Ek verwerk dit nog en wag vir ’n bevestiging.” “Ja, ek ken jou so,” spot hy goedig. “Dis reg, ek sal nie daaroor praat nie.”
Die aand tuis wag daar ’n e-pos van tannie Marié. Ek bid baie vir jou, kind. Het jy al duidelikheid oor of jy saamgaan op die gebedsreis? Ek dink so, Tannie, skryf sy terug. Ek het vandag ’n interessante gesprek met ’n jong meisie gehad wat binnekort trou en in dieselfde posisie as ek sal wees. Ek dink dis belangrik vir ons huwelik dat ek gaan en hoog tyd dat ek meer weet van my man se bediening. Hy vlieg môre weer en is vir tien dae weg. Bid asseblief weer vir ons in hierdie tyd?
Sy huiwer eers voor sy die knoppie druk om die boodskap te stuur. Dit lyk so amptelik op papier. Haar maag trek weer saam as sy dink sy moet haar kindertjies hier los. Sê nou …? Nee, sy kies om weer die gebed van ’n paar weke gelede te bid. Here, ek kies om weer my kinders in U hande te plaas en ek weet dat U beter vir hulle kan sorg as ek. Bevestig asseblief vir my dat ek die regte besluit neem. Toe skryf sy onder aan die e-pos: Ek wag egter nog vir duidelike bevestiging.
Maandag by die skool het Salomé ook een van Lilly se ou-nuwe skeppings aan. “Hi, Salomé, jy lyk baie mooi vandag,” komplimenteer Dirk haar in die verbygaan op pad personeelkamer toe. “Dankie, Dirk,” glimlag sy. “Dis Lilly se handewerk,” sê sy en wys na Lilly wat langs haar loop. Lilly maak ’n verspotte buiginkie en Dirk skud net sy kop laggend. “Is al jou items agtermekaar vir die merietefunksie, Salomé?”
“Ja, ek stuur later vir jou die program.” “Asseblief, ja, ek moet alles finaliseer.” “Reg so.” “Petrus toe weer weg?” vra hy belangstellend. “Ja, gister.” Salomé voel sommer weer jammer vir haarself. “Hoe lank hierdie keer?” vra hy simpatiek. “Tien dae,” antwoord sy met gevoel. “Ai, sterkte. Laat weet maar as daar iets is waarmee ek kan help.” “Dankie, Dirk.”
“So wat is die storie met jou en doodgewone Dirk?” vra Lilly reguit toe hy buite hoorafstand is. Salomé vererg haar op die plek. “Daar is nie ’n storie met my en Dirk nie.” “Regtig?” laat Lilly met opgetrekte wenkbroue hoor. “Dirk is net ’n dierbare vriend wat my al baie moes uithelp wanneer Petrus nie hier is nie.” “Dierbare …?” Lilly gaan staan en kyk haar vraend aan. “Ag man, moenie iets in die woord lees nie. Wonderlike, goeie, betroubare … wat ook al.” “O, spaar my die lofgesange, Salomé. Jy maak dit net erger,” skud Lilly haar kop in afgryse. Salomé is smoorkwaad. “Kan ’n mens nie ’n goeie mansvriend hê nie? Ek voel niks vir Dirk buiten vriendskap nie,” sê sy sag en afgemete.
“Dit mag so wees,” antwoord Lilly sonder om ’n tree terug te deins vir haar woede. “Maar die man is smoorverlief op jou.” Die woorde skok Salomé effe van balans af. “Moenie laf wees nie!” Maar sy klink vir haarself onseker. “Jy moet sien hoe die ander personeel hulle oë rol en agteraf praat as jy en Dirk net in mekaar se rigting kyk. Dis obvious vir almal behalwe vir jou.” “Maar ek doen niks verkeerd nie. Ek het dit nog nooit aangemoedig nie. As hy so voel, kan ek mos niks daaraan doen nie?” “Jy kan ophou om die slagofferrol te speel wanneer jou man weg is. Dirk floreer daarop as hy die held in jou storie is.” Die asem is heeltemal uit Salomé se borskas geruk. Sy kan aan niks dink om te sê nie. “As iemand verlief is op jou en jy is ’n goeie, eerbare vrou,” gaan Lilly sagter maar steeds beslis voort, “soos wat ek weet jy is, dan moet jy leer om ’n ander plan te maak as om op hom staat te maak. Anders is dit uitbuiting.” Uiteindelik kry Salomé haar asem terug. “Ek kan nie glo wat jy nou net vir my gesê het nie.” “Wel, ek kon dit agter jou rug gesê het, soos al die ander. Maar ek is veels te lief vir jou om oopoë ’n tragedie voor my te sien afspeel. Jy kan maar so kwaad wees vir my soos jy wil, maar ten minste het jy vandag die waarheid gehoor.” Toe stap Lilly doodluiters aan personeelkamer toe. Salomé staan gevries op die plek. Is dit waar? Is dit hoe almal haar sien? Dink hulle sy speel die slagofferrol om Dirk se aandag te kry? Sy is glad nie in staat om enige van haar kollegas in die oë te kyk nie en stap sommer na haar motor toe. Sy klim in en maak die deur toe. Die warmgebakte stilte van die motor omvou haar verstikkend, maar dis steeds beter as haar kollegas. Lilly sal wel ’n storie namens haar uitdink. Dierbare, lojale Lilly. Sy is al klaar nie meer kwaad vir haar nie. Sy druk die eerste die beste CD in die speler sodat die musiek haar gemoed kan kalmeer. Draai die vensters oop dat vars lug kan inspoel. Maar niks wil werk nie. Haar gemoed is onstuimig.
Toe die klok lui om aan te kondig dat pouse verby is, stap sy met ’n ompad terug klas toe. Sy weet nie hoe sy deur die res van die dag gaan kom nie. Lilly wag by haar deur. “Is jy orraait?” Salomé knik, dankbaar dat sy nie hierdie periode ’n klas het nie. Lilly knik ook net en stap weg. Salomé het beplan om gou die merietefunksie se program te finaliseer en dit na Dirk toe te neem. Dit sal nie nou wys wees nie, maar Dirk weet sy het die periode af, hy weet hoe lyk haar rooster. Dalk sal hy wonder hoekom sy dit nie self bring nie? Skielik begin Salomé die prentjie sien soos die ander dit sien: Dit ís seker onnatuurlik dat hy so vertroud is met haar rooster. Sy maak die program in ’n waas klaar en stuur die volgende periode ’n kind om dit vir hom te gaan gee.
“Ek praat met Mamma,” sê Markus gefrustreerd in die motor op pad huis toe. “Skuus, my kind, wat sê jy?” vra sy effe verdwaas. “Hoe lank is Pappa hierdie keer weg?” “Tien dae.” “Agge nee. Ek wou gehad het hy moet my fiets help regmaak.” “Mamma kan mos sommer vir oom Dirk vra,” sê Talitha. “Ja. Asseblief, Ma, reël dat hy sommer vanmiddag kom kyk,” smeek Markus. Dit is of Salomé vir die eerste keer besef hoe sy en die kinders in hulle situasie begin optree het: Dirk sal instaan wanneer Petrus nie daar is nie. “Nee, ek dink ons kan ’n ander plan maak,” antwoord Salomé. “Wat is fout met jou fiets?” “Ek weet nie presies nie, maar dit lyk of die ketting vashaak. Oom Dirk sal weet, Ma,” sê hy gefrustreerd.
“Maar oom Dirk is nie julle pa nie en ons moet self leer planne maak wanneer Pappa weg is,” sê Salomé. “Maar oom Dirk het nog altyd kom help?” vra Markus verbaas. “Dit gaan nou verander,” antwoord Salomé beslis. Sy besef die kinders verstaan nie, maar iewers sal sy nou nuwe grense moet stel. “Na watter land toe is Pappa?” vra Talitha. Salomé hou voor die kleuterskool stil en draai na die kinders. “Pappa is in Egipte. Wanneer ons by die huis kom, gaan ons eers gou op die kaart kyk waar dit is.” Nadat sy Alexander by die kleuterskool opgelaai het, gaan hulle huis toe. Sy gaan wys op die groot wêreldkaart vir hulle waar Egipte is en terwyl hulle so voor die kaart staan, bid sy namens hulle vir die mense van Egipte wat nog nie die Here dien nie. Hulle bid vir Petrus en sy opleidingspan wat die leiers van die kerk in Egipte moet toerus. Sy bid ook dat die Here hulle sal help met Markus se stukkende fiets. Toe bid Alexander spontaan vir al die kinders in Egipte wat nog nie vir Jesus ken nie en Salomé vee ’n traan af. “Dit het gehelp dat Ma gebid het,” kom sê Markus later die middag. “Ek het die fout gekry. Ek moet net weer die ketting olie gee, dan is dit weer reg!” Dankie, Here! Ek is jou Maker en jou Man.
Hoofstuk 17
KAÏRO. NOVEMBER 2010
Die plan begin stadig maar seker vorm aanneem in Saleh se kop. Jy moet ons paspoorte regkry, Saleh, skryf Ashraf. As ons die geleentheid kry, moet ons uit hierdie land wegkom. Daar is nie meer ’n toekoms vir ons en ons kind hier nie. Hy is bang vir sy familie, verstaan sy. Sy neem hom nie kwalik nie. Haar paspoort is nog lank geldig, maar sy weet nie waar is Ashraf s’n nie. Het hy dit nie ook saamgeneem na sy ouers toe nie? Kan jy onthou waar jou paspoort is? skryf sy terug. Hoe lank dink jy voor ons sal kan vlug? Dit is nog net twee maande voor ons baba kom. Dalk moet ons wag dat hy eers gebore is? Ai, ek wens jy was hier. Sy antwoord kom gou. My paspoort is by joune. Ek kom sodra ek sterk genoeg is, maar ek wil nie die risiko loop dat die baba op die vliegtuig gebore word nie. Kom ons beplan dit vir ná sy geboorte, dan gee dit ons genoeg tyd om alles reg te kry. Jy sal vir hom ook ’n paspoort moet reël en daarvoor het jy sekere dokumentasie nodig. Sal jy solank uitvind wat dit is en dit miskien gereed kan kry? Wees net versigtig, asseblief, Saleh. Sy sal hulle huweliksertifikaat nodig hê. Dis in die woonstel, saam met haar juwele en die babakleertjies wat sy so graag wil hê. Die Eid al-Adha-fees aan die einde van die Hajj-pelgrimstogte na Mekka is verby en die lewe in die stad weer normaal. Nou is ’n goeie tyd om te gaan. Sister Martha bel om te sê die wêreld word te warm in Kaïro met die verkiesing. Hulle moet Saleh skuif. Sy moet solank haar klere pak; hulle sal haar op kort kennisgewing moet kom haal. Dis veiliger so.
Klere? Watter klere? In haar woonstel is ’n klomp klere wat sy sal kan gebruik. Maar Sister Martha sal nooit instem dat sy dit gaan haal nie. Sy sal dit op eie stoom moet aanpak. Sy wil regtig nie alleen gaan nie; sy is baie bang. Wroeg en wroeg, bid en besluit oplaas. “Miriam, ek het ’n groot guns om te vra.” “Ja?” “Jy mag nie vir Sister Martha hiervan sê nie, belowe eers.” “Ag nee, hygend, kind, nou klop my hart sommer in my keel.” “Asseblief, Miriam. Belowe eers by die heilige Moeder van God.” “Nee, kind. Jy vra te veel. Ek weet dan nie eens wat jy gaan sê nie.” “Dan kan ek niks sê nie, jammer.” “Nou toe, ek belowe,” kry Miriam se nuuskierigheid die oorhand. “Miriam, ek moet na ons woonstel gaan om belangrike goed te gaan haal …” “Nee, oor my dooie liggaam sal ek dit toelaat.” “Luister eers, Miriam. Ek en my man wil landuit vlug met ons kind, maar ons kan nie sonder daardie dokumente nie.” “Dis te gevaarlik, Talibah.” “Dis nog gevaarliker vir ons om hier te bly, Miriam.” Miriam knik stadig. “Laat ek dan gaan.” “Nee en ja. Nee, ek kan jou nie alleen laat gaan nie, want dit is te moeilik om te verduidelik waar alles gebêre is. Ja, asseblief, sal jy saam met my kom?” Sy smeek, besef sy. “Wel, ek gaan beslis saam met jou. Dit is nie eens ’n kwessie nie,” sê Miriam beslis.
Sy val Miriam om die nek. “Dankie, Miriam, jy is ’n engel.” “Wanneer wil jy gaan?” “So gou moontlik. Ek weet net nie wanneer die beste tyd is nie. Soggens is die gebou stil, maar dan sal iemand baie gou opmerk as ons daar opdaag en kom krap. Ek vermoed buitendien dat my skoonfamilie iemand daar geplaas het om die woonstel dop te hou en te laat weet as ek daar opgemerk word. Laatmiddag is daar baie aktiwiteit, dan kan ’n mens dalk ongesiens inkom, maar die risiko is groot. As dit donker is en ons skakel ligte aan, sal hulle dadelik onraad vermoed. Wat dink jy?” “Ek dink ons moet ons vermom,” sê Miriam uit die bloute. “Vermom? Dit is ’n uitstekende idee.” “Ja, soos skoonmakers. Ons kan maar net daar met ons emmers en moppe die stoepe skoonmaak, tot ons seker is daar is niemand, dan glip ons in.” “Wonderlik. Dit is ’n maklike vermomming ook.” “So wanneer wil jy gaan?” “Môreoggend.” Miriam is bang, Saleh kan dit sien. Sy voel skielik jammer vir haar. “As jy nie kans sien nie, kan jy bly. Regtig, Miriam.” “Nee, liewe land, ek kan jou nooit vir die wolwe gooi nie. As dit so belangrik is, dan doen ons dit. Môre.” “Ek is ewig by jou in die skuld, Miriam.” Miriam knik net. “Ek gaan solank ons vermomming regkry. Maak jy ’n lysie van alles wat jy moet kry. Ons doen dit nie twee keer nie,” waarsku sy. Saleh het trane in haar oë. Hoe gaan sy nie hierdie vriendin mis nie. Ai, sy wil regtig glad nie hier weggaan nie. Haar lysie is lank. Sy maak seker dat sy haar rugsak heeltemal leegmaak en
opvou sodat sy alles daarin kan laai. Vir eers skryf sy nie vir Ashraf van haar plan nie, net dat sy binnekort sal moet skuif. Dit is die wonderlikste wonder om met haar geliefde man te kan kommunikeer. “Ai, my kind, jy lyk soos ’n jong bruid. Maggies, dat langafstandliefde ’n mens so goed kan laat lyk. Miskien moet ek ook vir my ’n internetkêrel kry,” het Miriam opgemerk. Saleh lag. “Jy sal eers moet leer hoe om die internet behoorlik te gebruik, anders sê jy hom dalk per ongeluk af.” “Ja, ja. Ek sal dit in elk geval nooit doen nie,” maak Miriam dit verleë af.
Saleh het feitlik nie geslaap nie. Haar hart klop letterlik in haar keel toe sy opstaan en gereedmaak. Miriam is vroeg by haar. Sy het ook nie geslaap nie, kan Saleh sien; daar is kringe om haar oë. Maar hulle het besluit om nie te vroeg te gaan nie sodat hulle die swaar oggendverkeer mis. Hulle kou aan ’n droë beskuitjie, albei te gespanne om te eet. “Het jy alles?” vra Saleh vir die derde keer. Miriam knik weer eens. “Ek het alles, hartjie. Moet nou nie bekommerd wees nie.” Maar sy self lyk erg gespanne. Uiteindelik gaan skryf Saleh ’n kort e-pos aan Ashraf. Dink aan ons vandag. Gaan op ’n belangrike missie. Sal eers laat terug wees om te skryf. Al my liefde. Hulle het al die gebede nodig wat hulle kan kry. Toe vat hulle die groot sakke met skoonmaakgoed wat Miriam gepak het. As dit vreemd lyk dat twee vroue met emmers loop waar ’n mop en ’n besem uitsteek, dan hoop hulle maar dit lyk of hulle dit gekoop het. In die emmers is voorskote en handskoene. Hulle dra egter reeds elkeen ’n serp om hulle hare en ’n jas. Gelukkig is dit winter. Die baadjie wat sy van haar effe groter gasheer leen, maak haar magie gelukkig heeltemal toe. “Kom ons bid net eers,” keer Saleh voor hulle uitgaan. “Vader, God van genade
wat my man se lewe gespaar het, dankie dat ons U kan vertrou met ons veiligheid vandag. Dankie, Vader, dat ons weet ons lewe is in U hande en elke haar op ons kop is getel. Beskerm ons asseblief en steek ons soos vir Dawid weg vir ons vyand. Dankie vir Miriam wat my vergesel, Vader. Stort u besondere seën oor haar uit. In die Naam van Isa. Amen.” Miriam vee die trane van haar oë af. “Jy bid altyd so mooi.” Met meer vrede maak hulle die woonsteldeur oop. Saleh probeer so natuurlik moontlik deur die strate beweeg, maar elke spier in haar liggaam is gespanne en boonop is sy nie gewoond om so ver te stap met haar swanger buik nie. Die helder son bak lekker op haar vel en sy is bly sy het die sonbril onthou. Wanneer laas was sy buite die veilige mure van die woonstel? Sister Martha sal haar afslag as sy moet weet waar sy haar nou bevind. Miriam is nou baie meer ontspanne en in beheer. “Ontspan en stap asof jy dit elke dag doen,” glimlag sy bemoedigend vir Saleh terwyl hulle na die bushalte toe stap. Hulle het met ’n sydeur by die woonstel uitgestap en hulle roete met ’n ompad beplan, vir ingeval iemand dalk nog in die omgewing na haar soek. Miriam klim nonchalant op die bus en bring twee kaartjies te voorskyn. Sjoe, ek is bly sy is hier, dink Saleh. Sy is paniekerig! Sy volg Miriam meganies. Dit voel of elke oog op haar is terwyl hulle in die bus se paadjie afbeweeg en agter in die leë banke neersak. Miriam druk haar hand. “Haal asem,” sê sy. “Jy lyk doodsbleek.” Saleh gehoorsaam outomaties. “Dis erger as wat ek gedink het dit gaan wees,” fluister sy onderlangs. “Ons is nog nie eens naby die gevaarlike deel nie,” raas Miriam. “Haal nou diep asem en ontspan; alles loop nog volgens plan.” Saleh maak haar oë toe en haal diep asem. Ag, Vader, maak my kalm, asseblief. Wees stil en weet ek is die Here.
Goed. Ek sal stil wees. Die besluit maak Saleh kalm. Sy haal diep asem en glimlag bemoedigend vir Miriam. Die res van die rit na die bushalte waar hulle moet afklim, verloop in stilte. Kort voor die halte kyk hulle vir mekaar, knik en stap na die voorkant van die bus. Saleh kyk onderlangs of sy iemand in die omgewing sien wat bekend lyk of hulle twee dalk dophou. Dit lyk nie so nie. Hulle eie woonstel! Sy klim met nuwe energie van die bus af. Hulle kies ook ’n ompad na die woonstelgebou toe, vir ingeval iemand die gewone roete daarheen dophou. Boonop moet hulle die gebou van die agterkant af benader om eers hulle wegsteeksleutel uit te haal. Sedert hulle kindertyd het haar ouers altyd daar ’n spaarsleutel weggesteek. Sy stap vinnig na die ongebruikte, geroeste elektrisiteitsboks en soek met haar vingers in die hoekie. Dankbaar vat haar vingers die sleutel raak. Haar hart klop nou weer wild in haar keel. Hulle stap behoedsaam by die agterste deur in. In die donker van die kelderverdieping moet hulle eers gou die voorskote oor hulle klere aantrek, handskoene aantrek. Miriam werk met ’n selfvertroue van iemand wat die plan goed ken. Hulle baadjies bondel hulle in die sakke wat in die emmers was en steek dit onder die trapskag weg. O genade! Hulle het nooit aan water vir die emmers gedink nie, besef Saleh. Sy kyk ’n oomblik paniekerig na die fronsende Miriam. Maar sy sê niks nie en hulle stap met die leë emmers aan. Saleh stap voor met die trappe op na die sewende verdieping; dit gaan swaar met haar boepie. Miriam is kort agter haar. Saleh gaan staan toe hulle die sewende verdieping bereik. Wag eers. Sy hoor voetstappe wat na die teenoorgestelde kant toe loop, verder en verder. ’n Deur gaan oop en weer toe. Stilte. Behoedsaam loer sy om die hoek. Niemand. Sy slaak ’n sug van verligting en wys vir Miriam om te kom. Die laaste paar meter na die woonstel se deur toe voel na die langste deel van die hele onderneming. Hulle sluip versigtig gangaf en staan uiteindelik voor die bekende deur. Saleh sukkel om die sleutel met haar handskoene vas te vat, maar uiteindelik is dit in die slot. Die sleutel draai en die deur gly voor hulle oop. Die skok van die deurmekaar woonstel vang haar onverhoeds. Miriam kom
vinnig in en hulle druk die deur agter hulle toe. Saleh beweeg eers op haar hoede deur die hele woonstel om seker te maak dat daar nie iemand is wat hulle inwag nie. Hulle praat nie, soos afgespreek. Dis leeg. Sy wys vir Miriam dat alles veilig is. “Waar is jou lysie?” fluister Miriam. Saleh bring dit te voorskyn. Sy hoop in hierdie chaos sal sy alles kan vind waarna sy soek. Doelgerig stap sy na die geheime plek waar sy hulle dokumente gebêre het. Vind wat sy soek. Werk verder deur haar lysie terwyl Miriam onderskeidelik by die deur en venster waghou en seker maak niemand het hulle gevolg nie. Toe Saleh verby hulle omgestampte troufoto loop, sit sy dit ook in haar sak. Agge nee! Haar juwele is weg. Die bewys van die feit dat sy kosbaar is vir haar man, asook haar versekering in geval van sy dood of egskeiding, volgens hulle kultuur. Boonop was dit haar finansiële sekuriteit. Haar hart skop seer in haar bors terwyl sy na die leë juwelekissie voor haar kyk. Sy knip die trane van teleurstelling terug. Wat anders het sy verwag? Natuurlik sou hulle dit eerste vat. Nou het ek niks oor nie, Here. Die babaklere is deurmekaargekrap in die kas se laai, maar veilig. Sy glimlag dankbaar en prop dit in die sak. Skoene! Ag, hoe dankbaar is sy vir nog ’n paar skoene. Sy kies ’n paar en stop dit in haar sak. Klere vir ná die geboorte en sommige wat sy dink nou ook sal pas. Sy sal ’n tweede sak moet kry. Krap in hulle kas waar sy weet die sakke is. Streel eers liefderik oor Ashraf se klere en pak op die ingewing van die oomblik vir hom ook ’n paar stelle klere en skoene in. Sy gaan hom mos binnekort sien! So werk sy sistematies deur haar lysie. Telkens sien sy nog iets wat sy wens sy kan inpak. Hulle Injeel. Iemand het dit op die vloer neergegooi. Daar is met haar rooi naellak ’n lelike kruis bo-op die buiteblad geverf. Daar het haasore gevorm aan die kosbare bladsye wat só bly lê het. Sy streel oor die agterkant en pak dit ook in. Sy het nie rekening gehou met die twee sakke waarmee sy sal moet uitloop nie. Hulle skoonmakervermomming pas nie heeltemal daarby nie. Miriam kyk ook bekommerd na die sakke, maar daar is nie nou ander raad nie. Saleh kyk nog ’n oomblik verlangend om haar rond. Sy wens sy kan alles regpak en dit weer so
huislik soos tevore laat lyk. Sy wens sy kon die tyd terugdraai. Die emmers sonder water bekommer haar steeds. “Sal ons die emmers net eers vol water maak?” fluister sy aan Miriam. “Dis nogal swaar om te dra as ’n mens vinnig wil beweeg,” fluister Miriam terug. “Ja wel, as iemand ons sien, dan maak ons maar net of ons op pad is om ’n ander plek te gaan skoonmaak.” “Prop sommer jou vol sakke in die emmers.” “Goeie plan.” Gelukkig is die emmers lekker groot en kan sy die sakke só goed versteek. Hulle druk hulle ore teen die deur. Hoor niks. Lig die kombuisvenster se gordyne versigtig en loer uit na die gang. Saleh stamp per ongeluk die houtlepelhouer om. Skrik en hurk op die grond. Wag. Hoor niks. Haal weer asem. “Hartjie, is jy reg?” vra Miriam besorg. Saleh knik, al voel sy ’n bietjie simpel, en stuur weer ’n skietgebedjie boontoe, die honderdste een in die afgelope uur. Hulle maak die deur behoedsaam oop en loer uit op die gang. Leeg. Dra die swaar emmers een-een uit en sit dit in die gang neer. Saleh maak seker die deur is weer gesluit. Hulle vat die emmers en stap versigtig gangaf in die rigting van die trappe soos hulle gekom het. Een stel af hoor hulle voetstappe. Kyk paniekerig vir mekaar. Klim toe die trappe stil verder af terwyl hulle hoor hoe die voetstappe nader en nader kom. Saleh haal eers weer asem toe die man verby hulle geklim het. Sy het haar oë afgewend gehou en geen oogkontak gemaak nie terwyl Miriam darem nog flouerig gegroet het. Sy klim die trappe al hoe vinniger na onder. Haar buik pyn van die inspanning. Onder gekom, kyk hulle mekaar vinnig en verlig in die oë en stroop die voorskote en handskoene af. Prop dit bo-op die sakke in die emmers en trek weer hulle eie baadjies aan voor hulle uitstap in die skerp sonlig. Saleh haal vinnig haar sonbril uit haar baadjiesak.
Sy bêre die sleutel eers weer ongemerk op die wegsteekplek. Miskien kom Ashraf nog self ’n keer hier verby. Toe begin hulle met die ompad na die bushalte toe loop. Miriam loer na haar horlosie. Knik vir Saleh. Op skedule. Hulle sal die volgende bus kan terugneem. Die emmers is ongemaklik en swaar. Die busrit terug verloop in stilte. Eers toe hulle die emmers in Saleh se skuilwoonstel neersit en die deur weer veilig agter hulle toe is, praat hulle. “Dankie, Miriam. Jy was ’n ster,” sê Saleh terwyl sy uitgeput op die bank neersak. “Sjoe, toe daai man met die trappe opgestap kom, het ek amper ’n floute gekry,” sê Miriam dramaties. “Ek ook. Ek was bang hy kon my hart hoor klop.” “Wag. Nou maak ek eers vir ons tee. Pak jy solank jou goedjies uit, hartjie.” “Ag, ek is so dankbaar vir die babagoedjies wat ek kon kry. Dis nie baie nie, maar dis darem iets vir my seun.” “Nou toe, pak uit en wys. Ek brand om alles te sien.” Saleh pak dit op die eetkamertafel uit. Skielik lyk dit vir haar karig en sy wonder of dit die moeite werd was om soveel te waag daarvoor. “Ag, Talibah, dis pragtig,” koer Miriam egter. Saleh gee haar ’n stywe drukkie. Dit voel of sy vir Miriam kul omdat dié steeds nie weet wat haar regte naam is nie. Sy wou haar al soveel keer die afgelope paar weke korrigeer, maar was bang dit doen meer goed as kwaad. Hulle drink tee, maar toe groet Miriam. “Jammer, kind, maar ek is nou doodmoeg van al die spanning. Ek het gisteraand skaars ’n oog toegemaak. Ek gaan nou eers bietjie lê en dan sien ek jou vanaand weer vir ete.”
Toe Miriam weg is, skuif Saleh agter die rekenaar in. Ek wag in spanning om te hoor, wag Ashraf se boodskap haar in. Die missie was suksesvol, skryf sy terug. Veilig tuis met dokumente en babaklere. Ná ’n paar minute kom die antwoord. Dit was dapper (en dom!). Baie dankbaar jy is veilig tuis. Asseblief, moet nie weer so iets doen nie! raas hy. Het die dokumente nodig gehad om te kan reis. Juwele is gesteel. My hart baie seer daaroor. Ja, ek verstaan. Regtig jammer oor juwele. Wees asseblief baie versigtig. Jou en ons baba se lewe is vir my baie meer werd as enige juwele of dokumente. Pas jou asseblief op dat ek jou in een stuk kan vashou wanneer ek jou weer sien. Lief jou. Ditto. Nou pootuit. Praat later.
Deel III
The Church used to be a lifeboat rescuing the perishing. Now she is a cruise ship recruiting the promising. – Leonard Ravenhill
Lukas 10:2-3: Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in.”
Hoofstuk 18
KAÏRO. NOVEMBER 2010
“Ons is op pad,” sê Sister Martha vroegaand toe Saleh die foon versigtig optel. Soos altyd bly Saleh net stil wanneer sy die foon antwoord en wag vir die ander persoon om te praat om seker te maak dis veilig. Sister Martha wag nie vir ’n antwoord nie. “Ek glo jou goed is gepak. Staan gereed en kyk vir ons kar. Ons sal agter die gebou intrek en wag,” stoomroller sy met die opdragte. Kom versigtig met jou bagasie af wanneer ons die ligte geflits het om te wys dis veilig.” “Reg so. Ek sien julle oor seker so dertig minute.” Haar goed is alles gepak, dus skryf sy net vinnig ’n laaste e-pos aan Ashraf. Die voëltjie moet nou vlieg. Hy sal vir haar bid, sy weet. Wat moeiliker is, is toe sy drie keer versigtig met die besemstok teen die vloer stamp – die teken aan Miriam dat Saleh na haar soek. Dis nie lank nie, of daar kom ’n klop aan die deur. Miriam kom al pratende binne. “Wat is dit, hartjie? Jy laat my altyd skrik.” “Ek moet groet, Miriam.” “Nee!” Haar hande vlieg geskok na haar mond. “Hulle het gebel om te sê hulle kom my nou haal,” haar stem begin bewe. “Ek sou veel eerder hier wou bly, Miriam, maar dit is net nie meer moontlik nie.” “Ag, dis vreeslike nuus.” Miriam se oë is ook waterig. “Jy het my lewe nou so
vol kom maak. Wat sal ek tog hier doen sonder jou geselskap?” Sy druk Miriam net styf vas in antwoord. “Ek gaan jou ook verskriklik mis.” Kyk toe vinnig in die woonstel rond. “Ag, Miriam. Ek sou darem net my beddegoed en handdoek wou was. Kan ek jou ’n groot guns vra?” “Natuurlik. Moenie bekommer nie. Ek sal seker maak die woonstel is blinkskoon voor Anne-hulle terugkom.” “Dankie, Miriam. Ek het vir hulle ’n briefie geskryf, maar ek wil nie dit hier laat rondlê nie.” Sy oorhandig die koevert. “Ek sal liewer dat jy dit vir hulle gee. Gee jy om?” “Glad nie. Ek doen dit met plesier.” Saleh kyk ’n oomblik lank na Miriam. “Ek sou so graag vir jou ’n groter geskenk wou gee, maar hier is ’n briefie vir jou ook. Baie dankie vir alles.” “Dit was net ’n plesier,” sê Miriam en vee die trane af. “Onthou nou hoe ek jou gewys het om met die e-pos te werk.” “Ek sal probeer.” “En dankie vir al die lekker kos, Miriam. Ek is spekvet.” “Ja, jy lyk stukke beter as die verskrikte kind wat ek die eerste dag hier gevind het,” sê sy trots. Sy skarrel vir oulaas om al haar goedjies bymekaar te kry en neem toe stelling in by die venster waar sy die agterkant van die gebou kan sien. Te gou sien sy die motor intrek. Hulle wag ’n rukkie en flits toe die ligte een maal. Sy gee ’n tranerige Miriam vir oulaas ’n drukkie en glip uit na buite. Haar hart klop in haar keel terwyl sy gangaf stap met haar bagasie. Sy probeer nonchalant verby ’n man loop wat met arms vol pakkies die trappe opsukkel. Kyk versigtig rond voor sy oor die parkeerterrein skarrel na die motor. Toe sy
voor die motor kom, klik die bak oop. Sy laai vinnig haar bagasie in en klim agter in. Skaars is sy in of Uncle George trek weg. Daar is ’n dringende gespannenheid aan sy houding terwyl hy bestuur. Sister Martha probeer die atmosfeer verlig met geselsies, maar dit werk nie, dus bly sy maar later net stil terwyl hulle deur die aandverkeer vleg. Kort voor lank kom hulle by ’n padblokkade. Sekuriteit is geweldig opgeskerp vir die verkiesing. Saleh maak of sy slaap op die agterste sitplek, nes Uncle George voorgestel het. Die flits skyn ’n oomblik op haar gesig en sy hou byna op asemhaal. Die beampte kyk na Uncle George se paspoort, loer in die bak en sê hulle kan verder ry. Dit is seker nie ongewoon dat buitelanders koers kry wanneer die plaaslike mense verkiesing hou nie. “Dankie, Vader,” bid Sister Martha terwyl hulle verder ry. Daar is nog ses blokkades voor hulle die geweldige stad Kaïro, soos ’n monument in die groot woestyn, agterlaat. Saleh kyk om na die verdwynende liggies en die diep wete dat ’n hoofstuk van haar lewe agtergelaat word, kom maak nes in haar binneste. Sy dink met heimwee aan soveel gelukkige dae in dié lewendige stad; dae saam met Ashraf, selfs die laaste dae saam met Miriam. As die Here wil, laat hulle mekaar tog weer sien. Uncle George het aansienlik ontspan vandat hulle die stad en die laaste padblokkades agtergelaat het. Dit is ’n geweldige risiko. As die veiligheidspolisie hulle saam met ’n voortvlugtige aantref, sal hulle summier aangehou, ondervra en heel waarskynlik gedeporteer word. “Waarheen gaan ons?” verbreek Saleh die stilte. Sister Martha kyk na Uncle George, soos altyd wanneer sy onseker is of sy maar kan praat. Uncle George knik. “Ons het baie goeie vriende wat in die woestyn woon,” begin sy. “Hulle is evangeliese Christene wat onder die hele kerk in Egipte werk. Hulle hoofdoel is om die plaaslike Christene te versterk. Hulle doen dit deur ’n opleidingsentrum wat hulle in die woestyn het. Dit is soos ’n oase vir Christen-leiers.” “Is hulle buitelanders?” vra Saleh. “Nee, plaaslike Christene.”
“Hoe kry hulle dit reg? Dit is dan eintlik onwettig,” sê Saleh verras. “Ja en nee. Die regering onderskryf sogenaamde godsdiensvryheid, soos jy weet. Maar hulle maak dit wel baie moeilik vir hulle, moenie ’n fout maak nie. Hierdie man is al hoeveel keer aangehou en ondervra en geïntimideer om op te hou met sy werk. Maar die Here het nog elke keer wonderbaarlik seker gemaak dat die werk kan voortgaan.” “Is dit veilig vir my daar?” “Dit was nie aanvanklik nie, want die veiligheidspolisie se oë is voortdurend op hulle gerig. Maar tans is hulle aandag op die stemmery in Kaïro. Daarom het ons gedink dit is die beste tyd om jou nou te verskuif.” Strategies, maar steeds ’n risiko. Die Koptiese priesters sal nooit so ’n risiko neem om ’n MBB in hulle gemeente skuiling te gee nie. Dit is net te gevaarlik. “Om eerlik te wees, dit is vir ons gevaarliker as vir jou,” sê Uncle George. “Hoe so?” “Ons was in jare nie na die opleidingsentrum toe nie, hoewel ons al dikwels wou gaan. Vir ons om met hulle geassosieer te word kan die einde van ons werk hier beteken. Ons het hulle nog altyd ontmoet wanneer hulle Kaïro toe kom en dan ook net baie versigtig. Ons het egter gedink dat ons hierdie geleentheid moet aangryp om sommer weer te gaan kuier en te kyk wat hulle daar doen. Terwyl die veiligheidspolisie se aandag op die verkiesing is, sal hulle hopelik nie so presies monitor wie daar kom kuier nie.” “Hoe lank gaan julle bly?” vra Saleh hoopvol. “Ons sal ná die naweek vertrek en jy sal dan daar agterbly. Jy sal nie buite die terrein kan beweeg nie, Saleh. Tog glo ons jy sal baie gelukkig wees daar. Jy sal deel vorm van die werkspan om die besoekende leiers te help onthaal, maar jy mag ook deelneem aan die lering. Dus sal jy tussen ander Christen-broers en susters wees en nie so geïsoleer leef nie.” Saleh se hart krimp. Sy is so pynlik bewus van haar agtergrond en dat sy nie soos ’n volwaardige Christen voel nie. Hoe sy sal funksioneer sonder hierdie twee dierbare mense as vangnet?
Dit is asof Sister Martha haar gedagtes kan lees. “Daar is al heelwat MBB’s wat hier hulle toevlug kom vind het, Saleh. So gou ons kan, hoop ons om vir Ashraf ook hier te kry; dan kan julle saam opgelei word. Ek kan nie aan ’n beter leerskool vir sendelinge dink nie.” “Om sendelinge te wees?” vra Saleh. Sy is uit die veld geslaan. Dié moontlikheid het sy nog nooit eens oorweeg nie. Daar volg ’n stilte in die motor waarin Sister Martha weer na Uncle George kyk. “Julle lewe kan nooit weer dieselfde wees nie, Saleh.” Hy bly eers stil, seker sodat sy woorde kan insink. Op ’n manier het Saleh dit geweet, maar dit nog nooit in soveel woorde aan haarself erken nie. “Julle sal ongelukkig nooit weer kan terugkeer na julle vroeëre lewe asof niks gebeur het nie. Alles het nou verander en ons moet julle help toerus vir die nuwe lewe. Wat dit presies gaan behels, weet ons nie. Maar ons wil julle help om gereed te wees vir wat die Vader ook al oor julle pad bring.” Saleh knik. Sy verstaan. In stilte verwerk sy dit terwyl Sister Martha vertel van alles wat by die opleidingsentrum gebeur. Saleh voel asof sy gedwing word om oornag groot te word. Tot nou toe het Sister Martha al hierdie inligting van haar weerhou. Dit was in elk geval die plan dat sy sou ophou werk wanneer die baba kom, soos meestal die gebruik is onder die vroue hier. Maar dan sou sy tuis by haar baba gewees het, in die bekende omgewing van hulle veilige woonstel. “Nahed-hulle weet al baie lank van julle en bid al die maande saam met ons vir julle.” Sister Martha se woorde ruk Saleh terug na die hede. Hulle bid reeds vir haar? Verstommend. Vir haar, wat hulle tot onlangs hulle vyandiggesind was, net omdat hulle Christene is. Sy het nog so baie te leer. “Hoe ver is dit nog?” vra sy ná ’n rukkie. “Nog ’n paar uur se ry. Ons gaan eers laat daar aankom, so jy kan maar slaap as jy wil.” Sister Martha klink soos ’n ma.
Maar Saleh kan nie slaap nie. ’n Diep heimwee omvou haar en sy verstaan nie hoekom nie. “Wat gaan ek doen as die baba kom?” vra sy later onseker uit die donker. “Nahed, Hassan se vrou, is ’n opgeleide vroedvrou. Sy sal jou help,” probeer Sister Martha haar gerusstel. Weg is die droom dat die vriendelike dokter haar baba in die wêreld gaan bring. Here, ek is in u hande, gee sy weer oor. Jy was nog altyd, my kind.
Iewers langs die pad moes Saleh ingesluimer het. Sy word wakker van Uncle George wat op sy selfoon praat. Hy het langs die pad afgetrek en praat in kort, kriptiese sinne. “Dit is veilig,” laat weet hy toe hy weer die motorenjin aanskakel. Sister Martha bid seker eenstryk deur soos Saleh haar ken. Hulle draai af op ’n grondpaadjie en die sedan skommel ongemaklik op die ruwe terrein. Hulle draai nog ’n keer of wat links en dan regs. Saleh het lankal haar sin vir rigting verloor. Uiteindelik doem groot mure voor hulle op. Dit lyk na ’n klein ommuurde vesting. Die hekke word van binne af deur onsigbare hande oopgemaak en dadelik weer agter hulle toegedruk. Uncle George ry nog ’n kort entjie tot onder ’n prieel waar bougainvilleas lustig groei en hou toe stil. Dadelik verskyn daar iemand uit die donker wat sy motordeur oopmaak en joviaal groet: “Habibi!” Die man en Uncle George druk mekaar vas en soen mekaar op beide wange. Toe klop hulle mekaar op die rug in blye weersiens. Sister Martha lyk groot en moederlik teen die skraal vroutjie wat haar ook styf vasdruk.
“En dit is Saleh,” sê sy toe hulle na haar draai. “Saleh, ontmoet Nahed.” Die vroutjie druk haar styf vas. “Welkom, Saleh,” sê sy warm. “En dit is Hassan.” Hassan, groot van lyf, gee haar ’n vaderlike drukkie. “Kom, kom ons neem julle bagasie en kry julle ingeburger. Julle was ure op pad. Geen probleme met die veiligheidspolisie nie?” “Ons is deur ’n paar padblokkades, maar ek dink nie hulle beskou ons tans as ’n bedreiging vir die president se verkiesing nie,” antwoord Uncle George met ’n vonkel in sy oog. “O, hulle weet net nie hoe jy kan bid nie. Anders sou hulle baie bekommerder gewees het,” spot Hassan goedig. “Kom, ons het vir julle kamers gereedgemaak.” Nahed stap voor en verduidelik vir Saleh hoe dit werk. “Jy gaan by die ander vrywilligers wat hier werk, bly.” Saleh se hart sak in haar skoene. Vreemde mense. Hulle stap by ’n woonstelletjie met drie kamers in. Twee deure is reeds toegetrek vir die nag, Nahed stap na die deur wat oopstaan. “Hier is jou kamer. Baie welkom by ons. Ons hoop jy gaan baie gou tuis voel,” fluister sy opreg. “Shukran,” antwoord Saleh sag terug om haar dankbaarheid te toon. “Maak gerus vir jou tee of koffie in die kombuisie,” wys Nahed. “Rus lekker en dan eet ons môre om sewe dertig ontbyt by die eetsaal. Die ander meisies sal jou wys waar dit is. Daarna sal ons vir jou presies verduidelik hoe dinge hier werk,” sê sy gerusstellend. Saleh glimlag stil.
Toe die deur agter haar toeknip, bekyk sy die eenvoudige maar vriendelike kamertjie. Bed, bedkassie, spieëltafel met welkomblommetjies daarop, ’n ou leunstoel en hangkas. Alles wat een persoon nodig het. Die prentjie van hulle gesellige woonstel wat voor haar opdoem, is ’n skrille kontras met die prentjie van haar nuwe lewe wat nou voor haar is. Sy weerstaan die versoeking om haar tas te vat en by die hekke uit te hardloop, al die pad terug na Kaïro na haar woonstel toe. In plaas daarvan gaan lê sy op die bed terwyl die trane geluidloos oor haar wange rol. Soms dink ek die prys is te hoog, Vader. Geen antwoord nie. Só raak sy aan die slaap en word later styf en yskoud wakker. Rondom haar is dit doodstil. Hoe graag sy ook al nou wil stort, sy wil nie haar woonstelmaats wakker maak nie. Sy krap in haar tas vir die warm nagklere wat sy uit die woonstel gaan haal het. Koulik trek sy dit aan en klim onder die beddegoed in. Met gedagtes wat maal, lê sy lank en staar na die donker plafon bokant haar voor daar ’n bietjie hitte in haar lyf kom. Diep in die nanag eers word sy weer lomerig.
Hoofstuk 19
PRETORIA. NOVEMBER 2010
Salomé is die hele tyd omgekrap en onrustig. Sy verlang na Petrus en is vreemd bekommerd oor hom – meer as gewoonlik wanneer hy weg is. Heeltyd bid sy kort skietgebedjies, maar die kalmte kom nie. Tuis is die kinders huilerig en bakleierig en sy moet kort-kort skeidsregter speel. Hulle is moeg en verveeld met die einde van die jaar se skof. By die skool werk die kinders ook op haar senuwees, want almal is balhorig lus vir die vakansie en die meeste van die jaar se werk is afgehandel. Sy het nie die energie om slim planne uit te dink om hulle te vermaak nie. Selfs Lilly irriteer haar. En Dirk. Hulle moet saamwerk aan die reëlings vir die merietefunksie, maar sy is seker sy tree so onnatuurlik op as wat sy ongemaklik voel naby hom. En sy is kwaad. Sy het nie enigsins aanleiding gegee tot hierdie simpel situasie nie en al wat sy wil hê, is dat alles weer normaal moet raak. Maar hoe sy ook al probeer, niks is meer normaal nie. Sy stap saal toe om die laaste afronding te gaan doen: tafeldoeke oor te gooi en seker te maak die blomme staan nie op dieselfde plek as verlede jaar nie. Toe het ’n pappa die blomme halfpad deur ’n musiekitem gaan skuif omdat hy sy dogtertjie, wat die item gelewer het, nie kon sien van waar hy in die kantblok gesit het nie. Almal het gelukkig in goeie gees gelag en later applous gegee toe die hoof die pappa bedank het. Sy is bly die saal is leeg. Nadat sy alles agtermekaar gekry het, sak sy sommer op een van die stoele neer en staar in die niet. “En nou?” Dirk se stem hier langs haar het haar laat skrik. Sy spring omtrent op om weg te kom. “O, ekskuus. Ek het sommer aan die dink geraak.”
“Waaroor?” “Sommer oor dit en dat. Verskoon my.” “Sally?” Petrus se naam vir haar. Hy vat haar arm vas dat sy nie kan wegkom nie. “Wat gaan aan?” “My naam is Salomé.” Sy is op die plek woedend. “Sjoe!” deins hy terug. “Goed, Salomé. Wat gaan aan?” “Niks gaan aan nie.” Sy probeer haar arm losmaak. Netnou kom een van die ander personeel ingestap en dan is daar éérs ’n storie om te vertel. “Dit is nie niks nie, jy vermy my.” “Los my arm,” sis sy. “Goed, maar dan gaan jy my vertel wat aangaan.” Hy laat haar arm los en sy staan ’n tree terug. “So?” vra hy. Sy is uiters ongemaklik, maar besef die saak moet uitsorteer word. Sy wil begin, maar voel hoe sy bloedrooi bloos. Vererg haar vir haarself en draai om. “Salomé! Wat gaan aan?” keer hy haar met sy stem. Sy haal diep asem en draai stadig weer om. “Daar loop stories,” begin sy huiwerig, “oor my en jou.” “Stories? Watse stories?” “Skinderstories.” “Dis natuurlik weer daai Lilly-vroumens,” begin hy. “Nee, Lilly skinder nie. Dis die ander,” verdedig sy dadelik vir Lilly, skielik baie kalm. Daar is ’n ongemaklike stilte.
“As ek jou vermy, is dit omdat ek nooit wil aanleiding gee tot sulke stories nie, Dirk. Dit is vir my verskriklik.” “Nou kan ons nie meer vriende wees nie, oor ’n skinderstorie.” Hy is kwaad. “As dit ons reputasie gaan skade doen, nee, dan kan ons nie,” antwoord sy kalm. “Is jou reputasie vir jou meer werd as ons vriendskap?” “My huwelik is vir my meer werd as ons vriendskap en dit is wat ek oppas.” Sy kan nie glo sy is so kalm nie. Die antwoorde kom net vanself. “So wanneer jou man die wêreld rondflenter, is ek goed genoeg, maar as dit nou skielik jou reputasie skade doen, nie meer nie?” Hy is allesbehalwe kalm, besef Salomé. “Ek is jammer as dit die indruk is wat jy gekry het, Dirk. Ek het gedink ons is vriende wanneer Petrus hier is of nie, maar nie ten koste van my reputasie of my huwelik nie, nee.” “Maar as jy vasbrand, dan moet ou Dirk maar net kom help. Hy gee mos nie om nie. Jy kan hom mos maar net misbruik sonder om aan sy gevoelens te dink,” sê hy sarkasties. Sy woede haal die wind ’n bietjie uit haar seile. “Ek is baie dankbaar vir alles waarmee jy ons altyd gehelp het, veral wanneer Petrus weg was, ja. Ek het net – verkeerdelik – gedink dit kom sonder ’n prys.” “Hoe bedoel jy?” “Ek het nie gedink jy verwag iets van my vir jou hulp nie. Ek was seker baie naïef, maar ek het regtig gedink dit was net ’n guns van ’n vriend,” sê sy baie sag. Hulle was immers goeie vriende. “Salomé, hy is nie die regte man vir jou nie.” Hy pleit skielik by haar. “Hy skeep jou en die kinders af, en hy versorg jou nie soos ’n mooi vrou soos jy versorg behoort te word nie.” Hy wil aan haar raak, maar sy tree terug. Elke haar op haar rug staan regop en sy is nou baie kwaad. “Petrus is die perfekte man vir my,” sê sy afgemete. “Ek en jy kan nie meer vriende wees as dit is wat in jou kop aangaan nie, Dirk. Ons sal
nooit weer hierdie gesprek voer nie. Is dit duidelik?” “Is jy dan so blind?” vra hy. “Ek is nog net oor jou by hierdie skool.” Dit is soos ysige water wat hy oor haar uitgooi. “Ek kon al vir hoeveel poste as skoolhoof aansoek gedoen het, maar ek kan nie, want dan sal ek jou nie meer elke dag sien nie. Naweke is vir my eindeloos sonder jou,” sê hy ievol en stap al hoe nader. Dit maak Salomé bang. “Nee, Dirk. Jy kan beslis nie so redeneer nie. Ek is getroud en gelukkig. Daar sal nooit vir my ’n ander man wees nie. Kry dit in jou kop.” Toe draai sy om en is op ’n drafstap uit die saal voor hy nog iets kan kwytraak. Die sonlig buite verblind haar ’n oomblik, maar toe sien sy tog vir Lilly buite die deur staan. Sy val langs Salomé in en druk haar hand. “Well done, vriendin. Ek is trots op jou.” Salomé voel niks van ’n oorwinning nie, net die diep verlies van wat sy gedink het ’n vriendskap was.
Teen die tyd dat die merietefunksie moet begin, is Salomé so gespanne soos ’n snaar. Lilly, wat dit kan aanvoel, sorg dat sy die hele tyd in die omgewing is om enige toenadering van Dirk af te weer. “Hoe het jy geweet ons praat?” het sy vroeër aan Lilly gevra. “Ek het jou kom soek in die saal, maar toe ek sien julle is ernstig in gesprek, het ek my maar versteek tot jy my sou nodig kry.” “Ek kan vir myself sorg, Lilly,” sê sy, nie kwaad nie. “H’m. Ek wou maar net seker maak. Ek is wel baie trots op jou.” “Dit was een van die aakligste goed wat ek in my hele lewe moes doen.” Sy voel
lus om te grens. “Ek glo jou.” “Hy was regtig vir my ’n vriend. Ek het hom seergemaak.” “Dis beter so.” “Ek hoop so.” Hulle sorg dat alles gereed is voor die ouers begin aankom en Salomé skuif uiteindelik agter die klavier in. Plaas sy die blomme só geskuif het dat Dirk haar nie sal kan sien van agter die podium nie. Sy laat haar vingers oor die klawers dartel en hoop dat dit soos gewoonlik die spanning sal verlig; musiek is haar siel se kos. Nie vanaand nie. Haar vingers struikel selfs ’n paar keer oor die bekende note. Sy forseer haarself om te konsentreer en hoop die musiek en ouers se gekuier met mekaar skep ’n gemoedelike atmosfeer. Die aand verloop genadiglik glad en elke keer wanneer Dirk, wat die aankondigings doen, saaklik na haar verwys as “mevrou Pretorius wat die begeleiding waarneem”, kom daar nog ’n bietjie meer selfvertroue by haar spel. Sy ís mevrou Pretorius en sy wíl mevrou Pretorius wees. Sy sal sorg dat niemand ooit weer dink sy voel anders daaroor nie. Sy is so trots op Markus wat sy akademiese kleure gekry het en boonop ’n toekenning vir uitsonderlike prestasie vir sport. Hy het so goed gevaar met die krieket. Sy wens met ’n baie seer verlange dat Petrus hier was. Dis regtig nie maklik nie, Here. Toe hulle weer in die motor is om Alexander by haar sus Thea te gaan haal, is sy verlig. Die aand is verby sonder enige verdere vuurwerke. Sy SMS later vir Petrus: Merietefunksie gehad. Markus akademiese kleure gekry en sportprys. So trots op hom. Wens jy was hier. Liefde, S. Ag, wonderlik! Sê vir Markus ek baie trots op hom. Mis julle ook en lekker slaap! Liefde, P. Min inligting, soos altyd, van sy kant af. Sy is dit al gewoond.
Moet sy hom vertel van die gesprek met Dirk wanneer hy terugkom? Liewer nie. Hy sal net kwaad wees oor iets wat nooit iets was nie. Nee, dis beter om dit stil te hou.
In die dae wat volg, is Salomé seker ’n blinde kan die spanning tussen haar en Dirk met ’n stok aanvoel. Lilly beslis. Sy lewer deurlopende kommentaar aan Salomé oor elke beweging. As hy aan die een kant van die personeelkamer sit, sorg sy dat sy aan die ander kant sit. Sy maak seker dat hy eerste koffie kry, dat sy nie per ongeluk langs hom te lande kom by die teetafel nie. As sy dit enigsins kan verhoed om in die personeelkamer te kom, dan doen sy dit. Sy waag dit nie eens uit haar klas nie, uit vrees dat sy dalk in hom sal vasloop in die gange. So gespanne is sy dat sy skaars kan eet en sy slaap sleg. Sy stuur amper geen SMS’e aan Petrus nie, uit vrees dat iets sal deurskemer. Al wat sy haarself toelaat, is neutrale antwoorde wanneer hy oor die kinders vra. “Jy is belaglik, Salomé Pretorius,” praat sy eendag kliphard met haarself in die spieël. “Jy het ’n grens getrek, dis al. Jou kant is skoon.” Maar hoe sy ook al probeer, sy kan nie stry dat daar ’n gemis aan Dirk se vriendskap en sy hulp is nie. Sy maak ’n punt daarvan om al die klein jakkalsies wat die huis opvreet terwyl Petrus weg is self te probeer regmaak of op ’n lysie te skryf dat hy dit kan kom doen wanneer hy terug is. Sy gaan kuier meer by haar sus Thea om die leë middae vol te maak, maar selfs dit is net ’n martelende uitstappie, wat weer onderstreep hoe ver hulle wêrelde uitmekaar gedryf het. Sy haat dit om Dirk seer te maak en sy weet nie hoe om hierdie hele situasie weer reg te maak nie. Enige toenadering sal dit laat lyk asof sy weer ’n vriendskap wil begin, en dit kan sy nie weer doen nie. Sy mis Petrus verskriklik. Hy sal weet wat om te doen. Maar sy kan hom nie vertel nie. Sy sukkel snags om aan die slaap te raak en staan soggens doodmoeg op. Tannie Marié bel een aand: “Die Here herinner my baie om vir jou te bid. Hoe gaan dit met jou?”
“Goed dankie, Tannie,” antwoord sy gelykmatig, maar die trane sit in haar keel. “Regtig?” “Ja.” Haar stem kraak. “Ag, ek verlang maar net baie na Petrus.” “Ja, ek kan dit dink. Is dit die kinders wat moeilik is?” “Nee, darem nie regtig nie, Tannie.” Die trane stroom oor haar wange, maar sy probeer haar stem neutraal hou. “Ek is seker maar net moeg hierdie tyd van die jaar.” “Ja, dit kan ek glo.” ’n Kort stilte. “Ek sê jou wat, ons kleinkinders kom Saterdag kuier en ons was van plan om saam met hulle te gaan piekniek hou. Kom ek kom haal jou krosie ook, dan kuier hulle die dag saam met ons. Dit sal vir ons kleingoed baie lekker wees as daar maats is.” “Dis regtig nie nodig nie,” begin Salomé. “Ek dink dit is. Dan kan jy vir een dag ’n bietjie rus en doen wat vir jou lekker is.” Sy dink ’n oomblik na. “Dankie, Tannie, dis baie vriendelik. Kan ek net eers by die kinders hoor of hulle wil gaan?” “Natuurlik. Laat weet my sommer per SMS. As hulle lus is, kom haal ons hulle Saterdagoggend so negeuur.” “Is Tannie baie seker? Alexander is baie woelig.” “Ek is mal oor woelige kinders. Ek sal hom ver laat hardloop en bal skop, dan slaap hy die aand heerlik,” verseker die tannie haar. “Julle heel waarskynlik ook,” glimlag Salomé. “Ja,” lag sy. “Heel waarskynlik.” “Dankie, Tannie. Dit klink al klaar vir my baie lekker.” Die kinders is opgewonde; hulle hou van die “oupa” en “ouma”, en Salomé stuur die SMS. Sy haal sommer weer makliker asem noudat sy weet daar kom ’n
blaaskans.
Tannie Marié bekyk haar krities by die voordeur. “Ja-nee, jy kan doen met ’n bietjie rus. Geniet jou dag, kindjie. Ons bring hulle laatmiddag terug.” Sy klim terug in die bed met haar Bybel en ’n koppie koffie en nadat haar gees heelwat bedaar het, raak sy aan die slaap. Haar selfoon se biep-biep maak haar eers wakker. Hi, verlang vreeslik na julle. Als reg daar? Die Here lê julle baie op my hart. Liefde, Petrus. “Here,” sê sy sag. “U is ’n goeie God.”
Lilly kom ’n week later met die nuus. “Doodgewone Dirk het aansoek gedoen vir die onderhoofpos by die laerskool in Hartebeespoort.” “Hoe weet jy?” sê Salomé ongelowig. “Ek het my informante.” Lilly glimlag van oor tot oor. “Wel, ek is baie bly vir sy onthalwe.” “Ek hoop hy kry dit,” sê Lilly ernstig. “Ja, ek ook,” knik Salomé. “Hy was net betyds vir die aansoeke. Dit het gister gesluit.” “Genugtig, Lilly, hoe weet jy als?” “Ek het ’n flair for the dramatic,” lag sy. “Vir seker. En as dit nie daar is nie, dan skep jy dit,” terg Salomé.
Hoofstuk 20
WOESTYN, EGIPTE. NOVEMBER 2010
Vroegoggend is daar ’n sagte klop aan Saleh se deur. Die deur gaan oop en ’n jong meisie kom binne met ’n skinkbord in haar hande. “Goeiemôre,” groet sy vriendelik. “Hallo,” antwoord Saleh nog deur die slaap, maar dan ruik sy die koffie. Die meisie stap nader. “Welkom by ons. Ek hoop jy’t lekker geslaap?” vra sy warm. Saleh knik net. “Ek weet nie hoe jy jou koffie drink nie, so hier is melk en suiker dat jy self kan ingooi. Ek wou maar net seker maak jy is betyds wakker vir ontbyt. Jy wil dalk nog stort?” vra sy skamerig. Haar een oog is skeel, sien Saleh toe sy nader kom. Arme kind, sal seker nooit kan trou nie. “Shukran. Dis baie gaaf van jou. Ja, ek sal graag nog wou stort.” “Daar is nog so ’n halfuur, dan moet ons stap. My naam is Amsah.” Steeds effe verleë, seker oor haar oog. “Saleh,” antwoord sy en wonder dan skielik of sy haar skuilnaam moes gebruik? Te laat. Nee, Uncle George het haar tog as Saleh voorgestel aan Hassan en Nahed. “Sjoe, julle het seker laatnag hier aangekom. Ek het jou glad nie hoor inkom nie.” Amsah kom sit op die punt van Saleh se bed en draai haar skeel oog effens weg. Sy is duidelik lus vir gesels.
“Ja, dit was laat, maar om eerlik te wees, ek weet nie hoe laat nie.” Sy skuif hoër op teen die kussings om haar koffie te kan drink. Amsah se gesig verstar effens toe sy na haar swanger magie kyk. Ek het niks om oor skaam te wees nie, dink Saleh. Ek is ’n getroude vrou wat ’n baba verwag, maar die meisie weet dit seker nie. “Ek het nog agt weke om te gaan,” sê sy en vryf oor haar magie. “O,” is al wat Amsah kan uitkry voor sy haastig opstaan. “Ek gaan jou kans gee om klaar te maak, dan gesels ons weer later.” Saleh moet glimlag. Arme kind. Sy sal later alles mooi aan haar verduidelik. Later stap sy en Amsah na die eetsaal. Jawahir, die ander jong meisie in hulle woonstel, is blykbaar vroegoggend uit om daar te gaan help. Daar is reeds baie aktiwiteit. “Sjoe, hier is baie mense,” merk Saleh op. “Ja, dis die pastore en leiers van ander gemeentes wat hier is om opgelei te word. Hier is ook ’n groep buitelandse gaste,” vertel Amsah opgewonde. “O.” Saleh moet nog gewoond raak aan die idee om tussen ander Christene te wees. Uncle George en Sister Martha sit reeds en is diep in gesprek met Hassan en Nahed. Daar is ook ander mense by hulle en daar is nie ’n stoel oop nie. Dus neem Saleh stelling in op ’n plek wat Amsah haar wys en eet haar kos eenkant in stilte. Toe sy klaar is en opstaan om haar bord te gaan neersit, wink hulle haar nader. “Kom sit hier by ons,” nooi Sister Martha. Saleh skuif huiwerig ’n stoel nader. Die ander glimlag vriendelik. “Het jy goed geslaap?” “Ja, dankie,” jok sy.
“Kom, hier is ’n ekstra beker. Ek skink vir jou tee,” sê Nahed. “Dankie.” Sy voel soos ’n willose pop. Sy laat haar alles welgeval terwyl mense namens haar besluite neem. Daar is ’n oomblik ’n ongemaklike stilte. “Saleh,” begin Uncle George rustig. “Ons glo jy sal baie gelukkig wees hier en goed kan inskakel.” Sy knik net. “Hassan en Nahed het hulp nodig met sake in hulle kantoor. Ons het hulle verseker dat jy die perfekte kandidaat daarvoor is.” ’n Groot verligting spoel oor haar. Sy sal weer iets sinvols kan doen. Sy knik egter net weer, nie seker hoe om daarop te reageer nie. “Ons kantoor is op die oomblik in ons woonstel,” vertel Amsah. “Maar ons hoop om dit binnekort uit te skuif. Jy kan ná ete kom, dan sal ek jou touwys maak.”
Daar is reeds baie mense toe sy saam met Amsah by hulle woonstel aankom. “Dis soos die basis se hoofkwartier,” verduidelik Amsah. “Almal kom hierheen vir gebed en om te praat oor wat hulle ook al op die hart het.” Saleh stap skaam agter Amsah in, selfbewus hier in die klein vertrekkie vol mense wat stil geword het toe hulle inkom. “A, Saleh!” roep Hassan vaderlik uit. “Ek is bly jy het gekom. Ek wil jou graag voorstel aan ons gaste uit Suid-Afrika.” Die mense lyk soos Westerlinge en beslis nie soos swart Afrikane nie, dink Saleh verras. “Dit is broer Petrus. My goeie vriend van baie jare.” Hassan klop hom op sy rug soos hy praat. Die groot man langs Hassan staan flink op en groet beleefd. Sy blou oë kyk haar
vas aan en hy glimlag vriendelik. Die man se fors gestalte maak amper die hele vertrek vol. Sy knik net stom. “En dit is pastoor Hennie. Hy het ons dissipels hier kom leer oor gebed. Langs hom is Dawid, Charl, Maggie en Hanneke – die res van die gebedspan wat saamgekom het. Hulle sal vir nog ’n week by ons bly. En dit is Saleh, ons nuwe kantoordame. Sy het pas by ons aangekom en ons hoop dat haar man ook binnekort by ons sal aansluit.” Daarmee gee hy haar waardigheid as swanger vrou aan haar terug. Sy knik weer en kry dit selfs reg om effens te glimlag. “Sit eers, Saleh.” Hassan praat altyd met gesag. “Ons bid soggens saam vir die dag se gebeure. Dit sal goed wees as jy altyd hiervoor kan kom.” Saleh gaan sit op die stoel wat Sister Martha langs haar oopgehou het en probeer konsentreer op wat Hassan sê. Sy sukkel om gewoond te raak aan mans wat haar soos ’n gelyke aanspreek en om in hulle geselskap te sit. Sy het dit by Uncle George-hulle al tot ’n mate geleer, maar daar was sy meer soos hulle dogter. Hulle bespreek die reëlings van die dag, alles in Engels, en sy is dankbaar dat sy alles goed verstaan. Tog skuif haar aandag heeltyd terug na die lang vreemdeling langs Hassan. Petrus praat rustig, met ’n mengsel van gesag en nederigheid. Hy vertel hoe hy die werk van Hassan en Nahed eer in hierdie harde land waar hulle al jare werk. Hassan vee ’n traan af terwyl Petrus praat. Hy vertel hoe hulle gekom het om te dien, maar elke keer wat hulle hier kom, word hulle soos konings ontvang en met soveel gasvryheid bedien. Hulle kom wel om die jong pastore van dissipelskap te leer, maar gaan self soveel ryker as wat hulle gekom het terug huis toe. Saleh word diep geraak deur die atmosfeer in die kamer. Petrus roep een van die vroue nader met wie hy gereël het om ’n skottel vol warm water te bring. Hy neem plaas by Hassan se voete en verklaar dat hy sy voete wil was, as teken van die feit dat hulle gekom het om hulle te dien en te versterk. Toe was een van die vroue van sy groep ook Nahed se voete. Dis stil in die vertrek behalwe vir die geluid van die waswater. Saleh voel of sy op gewyde grond is. Sy sit stil met haar oë afgewend en luister. Later staan almal op en beweeg na buite waar die dag se verrigtinge gaan begin.
Saleh staan half verlore rond. Uiteindelik kom Nahed teruggeskarrel. “Ag, Saleh, ekskuus. Hier gaan dit altyd dol as ons gaste het. Dit is buitendien nou naweek. Gaan rig jy jouself dus lekker in, en ek sal aanbeveel dat jy soveel moontlik sessies van die dissipelskap probeer bywoon. Ons kry nie elke dag so ’n geleentheid nie. Later sal ons weer oor die kantoorwerk gesels.” “Reg so.” Saleh wil aanstap maar draai toe eers terug. “Nahed, baie dankie dat julle my ingeneem het. Ek waardeer dit. Ek kan aanvoel dat ek op ’n spesiale plek is,” sê sy opreg. “Ja, God is in hierdie plek, Saleh. Dis hoekom,” antwoord Nahed. “Ek hoop jy sal baie gelukkig wees hier.” Saleh stap na hulle woonstel en vir die eerste keer kan sy werklik haar omgewing inneem. Die hele sentrum het klipmure om, dus voel dit soos ’n veilige hawe, ’n minidorpie. Rye en rye kamerdeure maak oop op sementvoetpaadjies. Dit word afgewissel deur enkel- of tweeverdiepinggeboue waarin die woonstelle is. Daar is ’n gebedskamer eenkant in ’n stil hoekie. Helder, veelkleurige bougainvilleas versier die priële en val in skrille kontras oor die bleek mure. Palmbome groei hoog, soos by ’n oase in die woestyn. Ja, dis presies wat hierdie plek is, dink sy. ’n Oase. Oral skarrel mense haastig rond om alles vir die konferensie agtermekaar te kry. As iemand verby haar skarrel, groet hulle vriendelik. Sjoe! Hoeveel mense is hier? Sy loop verby ’n saal waar sy ’n stem oor ’n mikrofoon hoor dreun. Saggies stap sy nader om in te loer. Reg by die deur staan Petrus se groot figuur waar hy teen die deurkosyn leun en luister. Hy glimlag vriendelik vir haar en maak dadelik plek dat sy kan instap. “Nee, dis reg,” fluister sy. “Ek wou net loer of Sister Martha-hulle hier is.” “Hulle sit daar heel voor,” fluister hy terug en wys vir haar. Sy gaan beslis nie verby almal stap tot daar nie. “Ek sal later terugkom, dankie.” Hy glimlag weer vriendelik. “Teetyd is om elfuur.”
“Dankie.” Die stilte in hulle woonstel is welkom. Sy laat klik die deur toe en sak op die kant van haar bed neer. Ashraf. Sy wil so graag ’n boodskap by hom uitkry. Later sal sy by die kantoor vra of sy ’n e-pos mag stuur. Nou wil sy hulle nie pla nie. Die tas op die vloer en die leë kas val haar op. Tyd om haar reg te ruk en haar tuis te maak. Sy sal moet vrede maak met haar nuwe lewe. Sy voeg die daad by die woord en begin uitpak. Die babaklere pak sy op ’n rakkie uit wat sy net daarvoor gaan gebruik, besluit sy. My liewe baba, ek sou so graag nou vir jou ’n babakamer wou regmaak. Nou maak ek vir jou ’n babarak reg! Dis soveel anders as wat ek beplan het. Maar ons twee is veilig en hopelik kom jou pappa een van die dae. Ons bid dat dit vinnig sal wees. Dan is ons drie weer saam en wat kan wonderliker as dié vooruitsig wees. Nadat alles uitgepak is, gaan sak sy in die leunstoel neer en wag vir elfuur. Vader, God van genade. Help my om dankbaar te bly en nie na my ou lewe te verlang nie. Sy sit langs Sister Martha-hulle vir die konferensie en luister aandagtig na Petrus wat hierdie sessie waarneem. Hoe meer hy praat, hoe meer word sy bewus van die diep honger in haar gees na die dinge waaroor hy praat. Hy praat oor Jesus se lewe. Jesus wat ’n koning was en alles prysgegee het om as ’n dienskneg van die mensdom na die aarde te kom. “ ’n Koning wat dien? Dis die wonderlike teenstrydigheid van die God wat ons dien. Hy het ons mense se voete gewas, hulle gevoer, siekes gesond gemaak en armes getroos. Hy het by sondaars gaan eet en ook met die kerkmense gemeng. Hy het gekom om almal te dien. Niemand was uitgesluit nie. Dan wonder ek hoekom ag ons onsself so belangrik dat ons so dikwels nie bereid is om mekaar te dien nie.” Sy gesig straal terwyl hy praat. Petrus se hele persoon is so mooi dat ’n mens soos ’n magneet na sy warmte toe aangetrek voel. Wat is dit met haar? Sy is ’n getroude vrou. Sy is so lief vir Ashraf, waarom sal ’n ander man haar so aantrek? Want dit is hoe Isa moes gelyk het, kom die gedagte by haar op. Hy moes so mooi gewees het. Sy hele persoon moes so vol liefde en gerusstelling gewees het. Saleh kry trane in haar oë terwyl sy na Petrus staar. Nadat hy gepraat het, klap almal hande en draai twee-twee na mekaar om vir
mekaar te bid. Sister Martha neem Saleh se hande styf in hare. Sy bid so mooi persoonlik vir haar dat die trane oor Saleh se wange rol. Sy is glad nie in staat om ’n gebed terug uit te spreek nie. “Ag, liewe Saleh, jy het vir my soos ’n kind geword,” sê Sister Martha met soveel deernis. “Aan die een kant is dit vir my swaar om jou hier agter te laat en aan die ander kant weet ek dat jy hier die wonderlikste dissipelskap gaan beleef. Gryp elke geleentheid aan om te leer. Hierdie gebedspan en sprekers is net hierdie week hier, dan gaan die lewe weer normaal voort. Ek gaan vir Nahed vra om jou toe te laat om elke dag te kom luister voor jy by die kantoor inval. Hoe klink dit?” Daar word weer namens haar besluit, gaan die gedagte vlietend deur haar kop, maar sy knik gehoorsaam. “Jy gaan hard werk hier, Saleh,” sê sy amper as ’n waarskuwing. “Ek is vreeslik bly dat dit kantoorwerk is, want met die baba wat kom, moet jy dit maar kalm vat. Maar hier sit niemand stil nie. Dit sal ook die betaling wees vir jou verblyf en kos.” Sy knik weer. “En sodra ons kan, kom ons weer kuier. Hopelik so gou moontlik ná hierdie baba gebore is.” “Dan eers?” roep Saleh geskok uit. “Dit bly maar gevaarlik vir almal betrokke om hierheen te kom, Saleh. Maar ons glo die Here sal dit weer vir ons onderneem.” Sy bly die hele tyd aan Sister Martha se sy omdat sy elke oomblik saam met hulle koester. Só word sy dus vanself deel van die gastegroep. Hulle sit saam in die lesingsaal en aan die etenstafel. Met middagete beland sy oorkant Petrus. Sy wend haar oë af en probeer sywaarts luister na die gesprek langs Sister Martha. “Wat is jou naam nou weer?” vra Petrus egter vriendelik. “Saleh,” antwoord sy sag en ongemaklik in ’n man se geselskap.
“Sally?” “Jy kan maar so sê. Die buitelanders noem my gewoonlik so,” antwoord sy skaam. Sy oë lag hemelsblou. “Ek noem my vrou ook Sally. Haar naam is Salomé.” “O, ons sal nou weer met daardie naam sukkel,” sê sy minder skugter. Dus is hy getroud. “En jy het pas hier aangekom, maar jy gaan hier bly, as ek reg verstaan het?” “Ja,” antwoord sy eenvoudig. “Hoe het jy hier beland?” wil hy met opregte belangstelling weet. Sy vraag is so deernisvol dat Saleh alles wil uitblaker. “Dis ’n lang storie,” is egter al wat sy sê. “Wel, ek het tyd om te luister,” sê hy gerusstellend. Die trane loop stil oor haar wange terwyl sy vertel en sy vee dit ongemaklik weg. Die gesprek voel vreemd in die eetsaal tussen soveel vrolike geroesemoes. Hy luister intens terwyl sy klaar vertel. “En wanneer kom jou baba?” “Middel Januarie.” “Ek sal bid dat Vader jou man sal stuur dat hy by jou kan wees wanneer jou baba kom.”
Hoofstuk 21
PRETORIA. NOVEMBER 2010
Alexander het in die nag begin braak. Salomé weet nie meer hoeveel stelle klere en lakens sy al omgeruil het nie. Die wasgoedmandjie loop oor en die badkamer ruik suur. Sy klou aan haar laaste nerwe toe Talitha vroegoggend by die kamer inloop. Sy wens sy kan die kussing oor haar kop trek en slaap en slaap. “Wat gaan aan, Mamma?” vra Talitha en wys na Alexander wat op ’n matrassie langs die dubbelbed lê. Hy is steeds wasbleek. “Alexander is siek.” “Sjoe, dit ruik aaklig hier binne,” sê sy en maak die kamervenster oop. Die geur van reën wat in die nag begin val het, is ’n verligting. “Het julle dalk iets snaaks geëet gister by die piekniek?” “Nee, Mamma, nie waarvan ek weet nie. Ek voel reg.” “Agge nee, dan is dit dalk ’n kiem wat kan aansteek.” Die gedagte aan ’n maagkiem wat hulle huis gaan lamlê, is enige ma se nagmerrie. “Wat gaan Mamma doen?” “Hoe bedoel jy?” vra Salomé moeg. “Ma moet mos by die kerk praat vandag,” herinner sy. Salomé kreun en druk haar kop onder die kussing in. Omdat Petrus nie hier is
nie, het die predikant gevra of sy vir die internasionale dag van gebed kan voorgaan met inligting rondom die vervolgde kerke. Sy het eers gehoop iemand anders van die kantoor kan dit waarneem, maar almal het reeds ’n gemeente waar hulle moet gaan praat. Dus het sy onwillig ingestem. Ag, Vader in die hemel! Wat gaan ek nou doen? “Wat gaan Ma doen?” vra Talitha weer. “Ek weet nie, my kind,” antwoord sy eerlik. “Hy is so siek, ek kan hom beslis nie saamvat nie.” Dis ’n aanval, was Petrus en tannie Marié se woorde. “Duiwel, in die Naam van Jesus staan ek jou teë en jy sal my nie vandag verhoed om te gaan nie,” sê sy kliphard. Talitha kyk haar geskok aan. “Wat sê Ma?” “Ek sê die duiwel gaan my nie keer om te gaan nie.” “O.” Sy lyk steeds verward. “Miskien moet ons vir oom Dirk …” “Nee,” val Salomé haar beslis in die rede. “Nee, nie oom Dirk nie, maar dalk juffrou Lilly?” “Ja! Sy is baie oulik. Sy kan by ons kom bly.” Sy loer op haar horlosie. O nee, Lilly slaap vir seker nog. Maar sy moet nou bel anders gaan sy nie betyds by die kerk wees nie. Lilly antwoord nadat die foon ses keer gelui het. “Sê vir my dis ’n vreeslike krisis dat jy my so vroeg op ’n heerlike, soel, laatslaap-Sondagoggend wakker bel,” antwoord Lilly die foon met ’n stem krakerig van slaap. “Dit is ’n krisis,” antwoord Salomé. “Okay, dan vergewe ek jou.” “Lilly, ek moet vanoggend by ons kerk praat, maar Alexander is siek.” “Siek? Hoe siek?”
“Naar … ” “O jippie! Kots is juis my ding.” “Lilly ek’s verskriklik jammer om dit van jou te vra.” “Ja, ek weet jy is. Maar dit is mos waarvoor ek daar is. Humor in emergencies.” Salomé lag. “Ja, presies! Sal jy asseblief ’n bietjie humor in hierdie krisis kom inwaai?” “Sure thing. Dit vat my wel ’n halfuur om my pruik en narrepak aan te trek.” “Jy het ’n driekwartier, dan moet ek ry.” “Oukie-doukie.” “Jy’s ’n ster, Lilly.” “Eintlik ’n superster. So trek jou kerkkostuum aan en hou op stres, ek’s nou-nou daar.” “Dankie, vriendin.” Sy lui af. “Talitha, maak solank vir Markus wakker, ek wil hê hy moet saam met my kom. Jy kan by Alexander en tannie Lilly bly en help.” “Reg so, Mamma.” Wat ’n liewe kind. Salomé stort en stuur ’n skietgebed op. Sy het gister geweet wat sy wil sê, maar haar kop voel so dik van die min slaap, sy hoop daar gaan iets sinvols uitkom vandag. Toe Lilly die huis inkom, is die wasmasjien aan die gang. Alexander lê rustig en slaap en Talitha kwetter opgewonde. Sy maak haar sambreel in die voorportaal staan en vee haar nat voete af. “Jy lyk mooi stemmig,” spot sy toe sy Salomé se donkerblou kerkpakkie sien.
“Dis reg vir die geleentheid,” verdedig Salomé. “Ek stem saam,” lag Lilly. “Dis mos mooi stemmig.” “Dankie, Lilly. Wat sê Pieter dat ek jou afrokkel op ’n Sondagoggend?” “Hy sê dis wonderlik dat jy my nie net nooi vir die verjaardagpartytjies nie maar ook vir die naarwordpartytjies. Maar, hoor hier … ” Sy spring amper op en af van opwinding. “Hy sê as ek ná vanoggend nog lus is vir ’n baba, then we can go for it!” Salomé moet saamlag. “Dis wonderlike nuus. Nou hoop ek dat jy nog sal kans sien.” “Natuurlik sal ek. So kry jou ry, dat ek my medalje kan verdien en dan my man kan gaan verlei. Ek gaan babas kry. Jippie!” “Jy, Lilly Liebenberg, is enig in jou soort,” skud Salomé haar kop. “Ja, ek weet. En jy Salomé Pretorius, is nou laat.” “O hemel, ja.” “Sterkte.” “Dankie. Kom, Markus,” roep sy en gryp haar sambreel.
Haar hart klop in haar keel voor sy moet opstap. Sy het gister ’n klomp feite deurgewerk en stories wat sy Petrus al hoor vertel het, afgestof. Maar sy weet skielik nie lekker wat sy moet sê nie. Petrus het al vroeg ’n SMS gestuur om haar sterkte toe wens en sy het hom gevra om te bid. Maar nou is sy hier op haar eie en sy voel totaal uit haar diepte. Ag, Here, hoekom is Petrus al weer weg. Wat moet ek sê? Vertel hoe jy voel. Hoe sy voel? Wat het dit met enigiets uit te waai? Sy is nou besig met die vervolgde kerk, nie met haarself nie.
Jy ken reeds vervolging. Hoe, Here? Jy ken eensaamheid en verwerping. Jy ken lyding ter wille van die evangelie. Nou moet jy met die gemeente deel wat in jou hart is. Sy staan bewerig op toe hulle haar naam sê. Petrus doen dit altyd so gemaklik. Sy voel honderde pare oë op haar rug en bid net weer: Help, Here. Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Sy maak keel skoon. “Goeiemôre,” sê sy sag en onseker in die mikrofoon. “Goeiemôre,” kom dit van ’n klomp kele in die kerk, asof hulle haar wil aanmoedig. Toe sien sy tannie Marié en oom Daan voor haar sit. Hulle het spesiaal vandag na hierdie kerk toe gekom om na haar te luister. Hulle glimlag bemoedigend vir haar. “My kind, my jongste seuntjie, was in die nag siek, naar,” begin sy onseker. Die mense frons. Wat het dit te make met … “Dit is nie die eerste keer dat daar ’n krisis is wanneer my man nie tuis is nie,” druk sy deur. “Ons het vroeër die jaar ’n brandwondgeval gehad.” Haar oë vang Markus s’n en toe tannie Marié s’n wat vir haar knik. “Ek moes al pap motorbande, gebreekte motorhekke, wasmasjiene en baie ander krisisse op my eie hanteer. Ek het ook familie wat nie aldag my man se roeping en werk verstaan nie. Die verskil is, ek kan dit hanteer binne ’n omgewing waar daar mense is wat my kan en wil help, ander Christene,” gaan sy sterker voort. “Ek kan my vriendin vra om my te kom help met my kind en my man het nog ná elke reis huis toe gekom.” Dirk is ook in die kerk, sien sy. Hy kyk af sodat hy nie oogkontak maak nie. Sy is momenteel van balans af gegooi, maar fokus vinnig weer en gaan voort. “My susters in die geslote lande wie se mans reeds vermoor is, of hulle wat tronkstraf uitdien omdat hulle Christene is, het nie hierdie luuksheid van hulp
nie. Hulle bly dikwels alleen agter in ’n vyandige gemeenskap wat hulle verstoot. Hulle kinders word gespot, getreiter en dikwels onmenslik geboelie. Die vroue word uitgebuit en werk hulle soms fisiek in ’n staat van siekte in om vir hulle en hul kinders te kan sorg.” Die geweldige erns en emosie van die saak neem van haar besit. “Hulle hoor vir maande en soms vir jare nie van hulle mans nie. Hulle kinders kom later in opstand. Hulle familie verwerp hulle en hulle vereensaam geweldig. En weet julle wat gebeur dan?” Die kerk is tjoepstil; jy kan ’n speld hoor val. “Nee, nee, moenie dat ons onsself troos met mooi en valse woorde van hulle wonderlike geloof wat hulle deurdra en wat ’n bonatuurlike, fantastiese groep mense hulle is nie. Moenie dat ons sug en dink haai siestog, dis darem maar wonderlik dat mense so swaarkry en nog bly glo nie. Nee.” Sy begin sag maar driftig. “As jy die vrou is wat dag vir dag alleen vir jou gesin moet sorg en soos ’n slaaf handearbeid moet doen; as jy die vrou is wat vir maande, soms jare, geen nuus kry van jou man uit die tronk nie; as jy die vrou is wat laas van Jesus gehoor en oor Hom gepraat het toe jou man nog gelewe het en julle nou dag vir dag gemartel word omdat jy toe in ’n mooi geloof geglo het … As jy daardie vrou of kind is, wat sou jy gedoen het? Vir tot soveel as negentig persent van die mense wat Jesus wel uiteindelik as hulle Verlosser aanvaar het – deur die harde werk van sendelinge en ure se werk aan Christelike TV- en radioprogramme en webwerwe – kom daar ’n dag waarop hulle sê dis genoeg, ek kan nie hierdie pad alleen stap nie. Ek kan nie verder nie. Dis te moeilik. “Daar is die hartseer stories van dié wat selfmoord pleeg en daar is ander wat op ’n dag oorgee en weer sê daar is geen god buiten Allah nie en Mohammed is sy boodskapper. Hoekom? Want jy smag dat jou pa jou weer in sy huis sal neem en dat jy nie meer ’n skande vir die familie sal wees nie. Jy kan dit net nie meer op jou eie doen nie. “Is ek en jy bereid om hulle te veroordeel as ons nie vir hulle gebid en hulle gehelp het nie?” konfronteer Salomé terwyl die trane oor haar wange loop. Sy gee skielik nie meer om wat die mense van haar sal dink nie en vee die trane nonchalant met die agterkant van haar hand weg. “Daar is ook die mans en pa’s wat maande in die tronk sit, wat huil en bid en verlang na hulle gesinne, wat verantwoordelik voel vir die gemors waarin hy
hulle laat beland het, wat wonder of alles die moeite werd was. Daar is dié wat wegkruip, vlug na ander lande waar hulle as vreemdelinge ’n lewe probeer maak, sonder familiebande, sonder dat hulle die land waarheen hulle gevlug het se taal verstaan. Maar hulle lewe ten minste. En baie van hulle wonder of hulle lewe hoegenaamd ’n verskil maak.” Almal luister. “En dan is daar ons. Ons wat in ons lugverkoelde kerk sit en een Sondag per jaar ’n gebedjie opstuur vir die wonderlike Christene in die vervolgde lande. G’n wonder die statistiek lyk soos dit lyk nie. “Liewe familie van gelowiges, julle wat my help as ek vasbrand, wat my laste help dra en vir my bid. Die Here sê in sy Woord dat ons aan die gevangenes moet dink asof onsself gevangenes is. Laat ons vandag erns maak met hierdie saak, maar nie net vandag nie. Laat ons drie honderd vyf en sestig dae van die jaar erns maak met ons broers en susters in die vervolgde lande. Laat ons vir hulle bid, ja, maar klim ook op ’n vliegtuig saam met die uitreikspanne en gebedsaksies wat gereël word en gaan ontmoet hierdie broer en suster en skud sy of haar hand. Stuur geld sodat ons hulle kan help met hulle materiële behoeftes en laat ons aan hulle wys dat ons as ’n liggaam funksioneer en hulle nie net aan hulle lot oorlaat nie. Hulle is ons broers en ons susters.” Sy praat nou behoorlik driftig. “Daar is die enkeles wat die geloof behou,” vervolg sy sagter, “wat sterk staan, die evangelie selfs deel, die stryd stry en dikwels ook die hoogste prys betaal. Ek glo dis gebede wat hulle staande hou. “Kom ons bid vir ons mense dat ons eendag by die Vader kan hoor hoe ons gebede lewens verander het. Dit is ’n saak van erns. Dit is ’n saak van ewige lewe of ewige dood.” Toe sy afstap, begin die projeksies met statistiek wat Petrus voorberei het agter haar speel. Haar bewerige bene dra haar tot by haar stoel, maar haar gees voel sterker as in jare. Hoe het dit gebeur? Markus kyk haar met stomme verbasing aan. “Wow, Ma was baie goed,” fluister hy. Sy druk net sy hand. Dankie, Here.
Ná die projeksies draai die mense twee-twee na mekaar toe en bid, soos die predikant gevra het. Daar is ruim geleentheid, nie net ’n afgejaagde twee minute nie. Dit voel werklik vir Salomé soos ’n deurbraak. Haar gemoed is lig. Later bedank die predikant haar en verras haar met die versoek dat sy of Petrus asseblief elke maand moet kom terugvoer gee oor ’n land of gelowiges in die vervolgde lande, sodat die gemeente op hoogte kan bly – die hele jaar lank. Sy knik. Petrus sal verstom wees, glimlag sy by haarself.
“Hoe het dit gegaan?” vra sy tuis aan Lilly. “Goed. Jou kleintjie haal al sy slaap van die nag in en Talitha is heerlike geselskap,” vertel sy vrolik. “Ag, wonderlik. Ek is bly jy het dit maklik gehad.” “Ek weet nie waaroor jy so te kere gaan nie? Siek kinders is baie makliker as gesonde kinders om besig te hou,” sê sy tong in die kies. “H’m, ek sal jou volgende keer op nagdiens sit,” kap Salomé goedig terug. “Nou toe, ek het my vlerkies verdien. Laat ek waai om my man aan sy belofte te gaan hou,” knipoog sy. Salomé lag hardop. “Jy het geen geheime nie, nè, Lilly?” “Moenie my vlak skat nie. Ek het jou die helfte nog nie vertel nie!” roep sy laggend op pad uit. “Ek was sommer baie trots op jou, Salomé,” sê tannie Marié toe sy bel. “Dankie dat Tannie-hulle kom luister het, ek waardeer dit regtig.” “Ja-nee, ek wou dit vir niks mis nie. Jy was omtrent oortuigend.” “Ek verstaan dit self nie heeltemal nie, Tannie,” sê sy oorbluf. “Dis verhoorde gebede. Is klein Alexander al beter?”
“Ja, hy lê heerlik en slaap inhaal.” “Nou toe, ek hoop jy kry ook ’n ruskansie.” “Dankie, Tannie.” “Dis ’n verrassing!” roep sy uit toe Petrus later bel. “Hoe gaan dit daar?” “Hier gaan dit heel goed, maar ek is bekommerd oor jou alleen met siek kinders en die pratery by die kerk. Het jy dit oorleef?” “Ja, dankie. Dit het verrassend goed gegaan. Hulle wil hê ons moet nou elke maand by die kerk terugvoer gee. Dit is of iets oor my gekom het, Petrus. Ek het oorgeloop.” Petrus lag en sy verlang sommer na sy nabyheid. “ ’n Mens noem dit die Heilige Gees, Sally. Dis wonderlike nuus. Ek kan nie wag om te hoor wat my klein vroutjie hulle alles vertel het nie.” “Jy het my goed geleer,” spot sy. “Aikôna. Ek moes jou lankal die werk gegee het. Ek het geweet jy het dit in jou.” “H’m, dis oor ek so baie met jou en die kinders moet raas,” spot sy met haarself. Weer sy lekker lag. “Ek mis jou, Petrus Pretorius. Wanneer kom jy ’n bietjie huis toe? Hierdie trippie is reeds vir my te lank.” Sy probeer dit lig hou, maar haar hart is swaar. “Ja, ek weet. Ek verlang ook baie hierdie rondte, Sally. Maar ek moet regtig sê hierdie mense is ongelooflik en ek kan sien hoe die konferensie ’n verskil maak. Nog ’n bietjie vasbyt en dan gaan ons lekker vakansie hou by die see.” “Ek kan nie wag nie,” sê sy ernstig. “Ek moet gaan. Lief jou, Sally, en gee die kinders ’n drukkie van my af,” groet hy. “Dankie vir jou bel!” roep sy voor hy aflui.
Die lyn word stil en Salomé is alleen met haar Sondagmiddag-heimwee. Sy sien geweldig op teen die skoolweek wat voorlê. Dirk se teenwoordigheid by die skool maak haar erg gespanne. Talitha staan in die deur. “Wat het Mamma vir die mense gesê?” Sy het duidelik die gesprek gehoor. Sy steek haar arms na haar dogtertjie toe uit en dié kom sit op haar skoot. “Ek het vir hulle gesê dat dit soms vir ons moeilik is as Pappa weggaan, maar dan verstaan ons beter hoe die vrouens en kinders moet voel wie se pappas in die gevangenis is vanweë hulle geloof.” “Gaan Mamma ook weggaan?” “Hoe bedoel jy?” “Saam met Pappa?” Waar kom die kind daaraan? “Miskien, Talitha. Ek wil graag Pappa se werk verstaan.” Sy knik haar kop. “Na watter land toe sal Mamma gaan?” “Miskien Egipte.” Sy knik weer. “Hoe voel jy daaroor?” vra Salomé. “Ek weet nie.” Sy trek haar skouers op. “Ek sal Mamma mis, maar dit sal goed wees as Mamma verstaan.” Daarmee glip sy van haar skoot af. Salomé kyk haar verstom agterna.
Hoofstuk 22
WOESTYN, EGIPTE. NOVEMBER 2010
Saleh woon elke opleidingsessie by. Sy hang aan die buitelandse sprekers se lippe en drink elke woord in. Nog nooit het sy soveel diep lering oor enige geloof gekry nie, nie van Christenskap nie en ook nie van Islam nie. Islam was in vergelyking baie meer wetties. Wat sy nou leer, het te make met diep geestelike waarhede: God se plan van verlossing met die mensdom; van die kruis van die gelowige tot die opdrag om die evangelie te gaan uitdra. Daar is sessies waar die trane net oor haar wange stroom soos gewaarwordinge in haar gees posvat wat sy moeilik in woorde kan omskryf. Ná so ’n sessie sonder sy haar af en gaan na die gebedskamer waar sy figuurlik by die Here se voete gaan sit en beleef hoe die Heilige Gees haar troos en bedien. Sy het al daar aan die slaap geraak van iets wat sy net kan beskryf as geestelike oorlading, asof sy te veel op een slag probeer inneem en haar gees nie kan byhou nie. Sy het gedink dat sy geweldig na Ashraf sou verlang, en dit is ook so, maar dis asof die vreeslik eensaamheid van haar gees nou versadig is met die Heilige Gees se teenwoordigheid. Sy hou nog steeds die meeste van die sessies wat Petrus aanbied. Die kombinasie van deernis en krag wat hy uitstraal, is so gerusstellend dat sy voortdurend op die uitkyk is vir hom. Sy e-pos vir Ashraf. Ek wens jy was hier. Ek leer so baie en wens jy kon dit saam met my beleef. Ek bid elke dag dat jy vinnig sal herstel om na my toe te kan kom. Al my liefde … Hy antwoord ná ’n paar dae se stilte: Ek het bietjie van ’n terugslag beleef. Ek het iets geëet wat nie met my liggaam akkodeer nie. Besef my organe het erg skade gekry en ek sal baie versigtig moet eet. Ek is weer ’n paar treë teruggesit, maar ek klou vas aan die lewe om julle weer te sien. Jou boepie lyk seker al
pragtig. Ag, ek verlang oneindig, Saleh. Ek bid dat ek spoedig na jou toe sal kan kom. Die nuus ontstel Saleh geweldig. Sy wens sy kon met Uncle George en Sister Martha praat om hom vinnig hierheen te bring, maar hulle het reeds Maandag gegroet om weer in Kaïro te kom terwyl die fokus nog op die verkiesing is. Oor die verkiesing is die meeste mense hier maar fatalisties; watse verskil sal dit in elk geval maak? President Mubarak trek die toutjies en dit is hoe dit seker sal bly. Die TV in Hassan en Nahed se woonstel is aangeskakel om die regstreekse beeldsendings dop te hou. Saleh het al af en toe ingeloer, maar kan haar nie sover kry om belang te stel of bekommerd te raak nie. Die werkinge in haar binneste neem al haar energie op. Sy drink dorstig uit die fontein van Lewende Water wat vir haar aangebied word. Die ander mense by die konferensie is meestal pastore of priesters van evangeliese of Koptiese gemeentes. Baie het hulle gesinne met jong vroue en kinders saamgebring, met wie Saleh dan ook lekker kan gesels. Hulle verhale van vervolging is met tye vreeslik tragies. Party het vir hulle lewe gevrees net omdat hulle na die konferensie toe kom. Ander se kerke is reeds afgebrand. Hulle het ’n innerlike krag waaraan Saleh haar net kan verwonder. Daar is ’n evangeliese pastoor met ’n sagte glimlag en ’n gesig wat die merke van jare se swaarkry dra. Hy en sy vrou glimlag maklik, maar huil ook maklik. Hulle vertel hoe die regering se stootskrapers op ’n dag gekom en hulle kerk en selfs van hulle gemeentelede se woonstelgeboue platgestoot het. En dit om ’n wandelgang in Luxor te bou waar toeriste van die ou opgrawings kan besigtig. Geen vergoeding is gegee nie en die Christene sit letterlik op straat sonder ’n duit. Dit is sy gemeentelede, sy kudde wat hy nie kon beskerm teen die aanslag op alles wat hulle het nie. “Hoe troos ’n mens hulle?” is sy retoriese vraag. Saleh luister altyd net stil en beleef iets van ’n skuldgevoel dat sy so lank deel was van ’n geloof wat ander mense so kan haat en te na kom. Nooit het dit haar gepla dat die Christene in die land swaarkry nie. Hulle was dan heidene. “Liewe vriende,” sê Petrus. “Dit sou verkeerd en onverantwoordelik van ons wees om julle opleiding te gee sonder om julle voor te berei vir die prys wat julle moontlik sal moet betaal. Baie van julle betaal dit reeds.” Hy kyk met deernis na die gesigte van die leiers voor hom. “Eintlik voel ek onwaardig om hier voor te
staan en hierdie lesing vir julle te gee. Maar ek wil julle vertroos met die voorbeelde van mense wat julle vooruitgegaan het, sodat dit julle sal bemoedig, sodat dit julle sal help om te volhard. Die Woord praat in Hebreërs van ’n skare geloofshelde wat ons aanmoedig om die wedloop tot die einde toe te hardloop. Julle is nie alleen nie. Ek weet die pad is moeilik en dikwels amper onmenslik eensaam, maar ek wil julle aanmoedig om dan ten eerste na Isa te kyk, wat sy lewe aan die kruis gegee het en kyk dan ook na elkeen ná Hom wat ook die prys betaal het.” Petrus wy die hele sessie aan geloofshelde; mans en vroue wat nie bang was om hulle lewe te gee ter wille van die evangelie nie en dit dan dikwels ook wel verloor het. Saleh het al gehoor van Christene wat nie hulle geloof wou prysgee nie, selfs wanneer hulle met die dood gedreig is. Daarvoor het die Islamitiese geloof tog respek, omdat hulle kultuur oor skande en trots handel, en soms sou daar tog van dapper Christene vertel word. Islamitiese ekstremiste is self nie bang om hulle lewe te gee in ’n selfmoordbomaanval nie. Dit is die enigste manier waarop hulle verseker is om die paradys in te gaan, en boonop glo hulle elke man word dan ook met sewentig maagde beloon. Daarvoor was sommige dus bereid om hulle lewe af te lê. Om jou lewe te gee vir ’n saak waarin jy glo, verstaan sy. Maar om aan die lewe te bly te midde van swaarkry as gevolg van die saak waarin jy glo, is soms vir haar moeiliker, soos vir Miriam. Petrus vertel van Jim Elliot, ’n Amerikaner wat sy lewe lank ’n sendeling wou wees. Hy en ’n groep vriende het besluit om na die Huaorani-groep in die Ecuador uit te reik. Hulle het per vliegtuig geskenke begin afgooi om só kontak te maak. Later het hulle besluit die tyd is reg om persoonlik na die gebied te gaan. Vyf mans het hulle gesinne agtergelaat ter wille van die evangelie en nooit weer teruggekom nie. Hulle is koelbloedig vermoor. “Was dit tevergeefs? Nee, die Vader het selfs hierdie vreeslike omstandighede gebruik. Van die vrouens het besluit om ter wille van die saak steeds kontak te maak met die inboorlingstam. Só het hulle aan die stam bewys dat hulle die moordenaars van hulle mans vergewe het. Die boodskap was so sterk dat baie mense tot bekering gekom het. Die vroue het tussen die stam gaan woon en ’n kerk gevestig. Is ons bereid om ons lewe te gee? Of, nog moeiliker, sou ek en jy bereid wees om jou man of vrou se moordenaars te vergewe ter wille van die evangelie?”
Dit slaan hard. Saleh sukkel nog om haar man se familie te vergewe omdat hulle hom so gemartel het. Wat nog te sê as hy dood sou wees! Broeder Andrew, ’n hedendaagse Christen-held, is die man wat die aflewering van Bybels na China georganiseer het. Hy het as jonger man, voor die val van kommunisme, honderde Bybels na Rusland en ander kommunistiese lande gesmokkel en die enkele gelowiges daar gaan bemoedig. Van die getuienis wat hy ontvang het, was trane van dankbaarheid om ’n Bybel te ontvang. Daar was selfs gesinne wat die Bybel in sy verskillende boeke verdeel het sodat meer mense ’n deel kon kry. Hy was die afgelope sestig jaar betrokke by die meeste geheime sendings na geslote lande. Weke en selfs maande op ’n slag was hy weg van sy gesin en hulle het telkens gewonder of hulle hom ooit weer lewend sal sien. As hy vasgetrek sou word, het hy die risiko geloop om stilweg net te verdwyn sonder dat iemand ooit weer van hom sou hoor. “Sou jy dit ter wille van die evangelie aan jou gesin kon doen?” vra Petrus. “God het gekies om hom te bewaar en sy getuienisse oor Christelike moedigheid dra groot krag. Maar dit kom altyd teen ’n prys. Is ons bereid om ons lewe te waag sodat iemand anders ’n Bybel kan kry om te lees?” Saleh weet nie. Sy was nog nooit dapper nie. “Kom ons bring dit nader: Is God begaan oor Egipte? Kan hy vroue gebruik? Ontmoet Lillian Trasher van Amerika. Lillian het van kleins af ’n ywer vir die werk van God gehad. Sy het haar troue afgestel toe sy besef dat God haar na Afrika roep en dat sy gehoorsaam moet wees. Lillian was kort voor lank in Egipte in ’n klein dorpie. Julle ken die prentjie: armoede en straatkinders. Sy was op haar eie, sonder enige ondersteuning van sendingorganisasies. Sy het self vir kos gebedel en daagliks weeskinders bymekaargemaak. “Uiteindelik het die kerk haar begin ondersteun. ’n Jaar later het sy vyftig kinders in haar kinderhuis gehad. ’n Paar jaar later drie honderd weduwees en weeskinders. In 1927 het die Egiptenare opgestaan teen die Britse regering. Huise is geplunder en afgebrand, maar God het haar en haar kinderhuis beskerm. “In die dertigerjare van die vorige eeu is alle ondersteuning uit die buiteland gestaak vanweë die ekonomiese depressie. Weer was Lillian op haar eie, maar omdat dit God se werk was en nie ’n mens s’n nie, het die kinderhuis gegroei en voortbestaan. Moenie dink dat jy nie vroualleen ’n verskil kan maak nie. Jy
kan.” Dis asof hy direk met haar praat. “Ek dink ook aan George Muller wat met vyftig sent in sy sak in die geloof uitgegaan en uiteindelik weeshuise in Engeland opgerig het vir ongeveer honderd een en twintig duisend weeskinders. As man en broodwinner was hy altyd brandarm en boonop sieklik. Hy moes vir elke sent op die Here vertrou en die Here het hom met so ’n geweldige nalatenskap geseën. Sal ons sieklikheid of armoede as verskoning gebruik om nie die werk te doen wat God van ons vra nie? Daar is baie wat dit doen. Ons dink selfs dit is geldig. Maar ek dink hulle verbeur tog daardeur ’n beloning, ’n oorwinnaarskroon, soos die Woord ons belowe! George Muller het gesê: ‘Die enigste manier waarop ’n mens ’n sterk geloof ontwikkel, is om groot beproewinge te deurstaan. Ek het my geloof gekry deur vas te bly staan te midde van swaar beproewing.’” Dit is ’n ruk stil. “Julle sal moet kies om ook groot probleme te oorkom om ’n sterk geloof te hê.” Petrus se woorde skok Saleh regtig. “Ons dien ’n groot en Almagtige God. In Hom kan jy ook ’n geloofsheld wees. Maar daar gaan dalk ’n tyd kom wat dit nie meer vir jou sin maak om Isa te dien nie. Wanneer ons nie meer hier bymekaar is om mekaar te versterk nie, wanneer jou familie jou verstoot en die samelewing jou so uitstoot dat jy en jou gesin saam met jou miskien honger ly, op straat is en gedurig gespot en verdruk word omdat jy ’n volgeling van Isa is. Julle weet beter as ek wat dit behels, nie waar nie?” ’n Paar mense knik. Party vee trane af. “Dit is dan wat jy moet onthou dat jy gekies het om ’n geloofsheld te wees, dat jy gekies het om ter wille van die evangelie baie te verduur. Ons kan julle nie net voorberei om dissipels te wees nie, maar martelare, want om Isa te volg is nooit maklik nie. Nie in die Weste met al sy rykdom waarin mense verstrik raak nie, en veral nie hier nie. Mag dit julle vertroos om te onthou vir Isa self was dit nooit anders op aarde nie. Hy het dit nie maklik gehad nie; gebore uit ’n ongehude moeder. Kan jy jou die skande indink? Tot daar waar hy ’n moordenaar se dood sterf aan die kruis. Self het Hy nie ’n huis gehad nie, en
geen luuksheid nie. Isa het gevra dat ons ons kruis opneem saam met Hom. Hy het vir ons gewys dat ons dit deur sy krag kan doen. Jy is dus nie alleen nie. Maar ek gaan nie doekies omdraai nie. As jy vir Isa volg, is dit die pad wat jy loop.” ’n Lang stilte volg. Saleh kan aanvoel dat almal diep onder die indruk van Petrus se woorde is. Een vrou huil openlik en dadelik is daar arms om haar en ’n spanlid wat saggies vir haar bid. “Ons Vader se beloning is groot en ewig. Laat ons daaraan vashou. Hy het ons geroep om die evangelie uit te dra, soos hierdie sendelinge van wie ek julle vertel het. Ons gebed is dat die Vader julle harte so sal aanraak dat julle ’n diep begeerte sal hê om die skat wat in julle en in ons almal is te gaan deel, al is die prys hoog. “Dit sal julle moet wees wat die Arabiese wêreld bereik. Julle het ’n voorsprong bo ons, want julle kan Arabies praat. Julle ken die kultuur en julle ken die gebruike. Ons Westerlinge bly altyd vreemdelinge in julle lande. Ons word so dikwels beleef as dat ons ’n vreemde godsdiens wil kom bring. Maar as dit van julle kom, as hulle in julle lewe die oorwinning, die genesing, die vreugde sien … Daar is nie ’n beter manier om die evangelie te bring nie; in jou taal vir jou mense. “Ek is nie waardig om hierdie boodskap aan julle te bring nie,” sê Petrus meteens bewoë. “Julle is reeds geloofshelde. Julle is vir my geloofshelde. Ek het gekom om julle te kom versterk, maar julle versterk my. Julle stap reeds die pad van vervolging, julle bly reeds moedig staan. Ek salueer julle.” Dit is hoe Saleh altyd vir Petrus sal onthou: die groot maar bewoë man voor hulle in die saal.
Hoofstuk 23
PRETORIA. DESEMBER 2010
“Jy’s kwaad vir my.” Petrus klink verbaas. “Nee, ek is nie kwaad vir jou nie,” kap Salomé terug. “Nou wat is dan fout? Jy is afsydig en kwaai vandat ek hier aangeland het.” “Ek is moeg.” Sy verpes die trane wat in haar oë spring. Hy tree nader en hou haar vas. “Ek was al in Egipte bekommerd oor jou. Wat het gebeur?” “Ek is net moeg ná hierdie jaar en dit was rof sonder jou,” probeer sy hom paai. Hy hou haar steeds vas. “Toemaar, een van die dae ry ons see toe.” “Ons moet eers my ouers op Bloem trotseer,” sug sy moedeloos. “Ek wens ons kan eerder daar aangaan wanneer ons terugkom. Dan het ek dalk groter kapasiteit om voor te gee dat ek al hierdie reise van jou lag-lag hanteer en dat hulle niks het om oor bekommerd te wees nie.” Alles borrel sommer by haar mond uit en die ongevraagde trane loop al weer. Petrus lyk van voor af bekommerd. “Is dit so erg, Sally?” Sy huil nou behoorlik. “Dis erger, dis verskriklik!” “Jy het dan gesê jy het dit al gewoond geraak?” “Ja, maar dis elke keer net nog ’n strooi op die kameel se rug en op die ou end knak dit, nè?” huil sy.
“Ai, my vrou.” Hy hou haar weer vas. Sy voel sleg. Hy probeer so hard om die twee wêrelde te versoen: sy roeping en sy gesin. Soms dink sy hy moes nooit getrou het nie, dan was hy vry om alles te doen wat hy wou. “Is dit al wat fout is?” vra hy weer teer. “Dis sekerlik genoeg?” kap sy weer terug. Sy kan sommer self hoor sy is op die verdediging. Hy kyk bekommerd na haar, maar laat vaar dan die onderwerp. “Ek sal die kinders vandag ’n bietjie uitneem vir ’n melkskommel, dan doen jy iets wat vir jou lekker is.” Sy knik dankbaar, maar eintlik wil sy nie alleen wees nie. Sy bel vir Lilly en vra haar om saam te gaan fliek.
“Wat kou jou?” vra Lilly later in die motor. “Niks,” antwoord Salomé outomaties. “Moet asseblief nie vir my sulke sotlike antwoorde gee nie,” sê Lilly skerp. Salomé kyk haar verbaas aan. “Asseblief tog, dit lyk of kanker jou soos rotte aan die binnekant opvreet, maar daar is sogenaamd niks fout nie.” “Ek wil nie daaroor praat nie,” probeer Salomé ’n einde aan die gesprek maak. Sy is seker so deursigtig soos Glad Wrap en hier dink sy sy kan dit wegsteek. Dit was ’n fout om Lilly saam te nooi. “Jy’t hom nie vertel nie, het jy?” vra Lilly met verontwaardiging. “Vir wie wat vertel?” speel Salomé dom. “Jy het nie vir die man aan wie jy ewige trou beloof het en wat jou liefhet soos sy kosbaarste skat op aarde vertel van Dirk die derduiwel nie.”
“Dit is darem nie reg om hom ’n derduiwel te noem nie,” sê sy vies. “As jy vir hom gaan opkom, gaan ek kots in jou kar, watch my!” Salomé moet lag. “Jy, Lilly, is die enigste mens wat my kan opbeur met jou humeurigheid.” “En jy, Salomé, maak my baie humeurig. Jy gaan sorteer hierdie ding vanaand met jou man uit, of ék vertel hom môre.” “Jy gaan niks van die aard doen nie, want daar is niks om uit te sorteer nie,” sê Salomé beslis. “Jy is so naïef as jy dink dat dit nie ’n bom is wat kan bars nie.” “Ek kan mos niks doen aan Dirk se gevoel vir my nie en dit sal net skade doen as ek alles vir Petrus uitlap.” “Dit sal wys jy vertrou hom.” Ek is bang dit lyk juis of ek ook iets vir Dirk voel, daarom kan ek dit nie doen nie, dink sy. Maar sy sê dit nie. Die fliek is flou en Lilly is vies. Die uitstappie is nie ’n sukses nie. “Jy maak ’n fout om nie jou man te vertrou nie,” sê Lilly voor sy uitklim. “Ek het jou die eerste keer al gehoor.” “Maar jy dink jy weet beter.” “My ma het altyd gesê ’n mens moenie slapende honde wakker maak nie.” “Jou man is nie ’n hond nie en hy slaap nog minder, en van wanneer af luister jy vir jou ma?” “Totsiens, Lilly. Dankie dat jy saamgegaan het,” maak Salomé haar stil. “Wat sal ek sê: vriendskap deur dik en dun,” verklaar sy ernstig en klap die deur hardhandig toe.
Lilly is regtig baie lojaal, dink Salomé soos sy huis toe ry, maar sy is verkeerd. Dirk gaan ’n pos kry op ’n ander plek en sy kan aangaan met haar lewe. Geen rede om die hele onsmaaklike storie weer op te haal nie. Sy voel tog beter ná die uitstappie; haar kop is oop.
Almal wag net vir die klok om te lui en die vakansie om te begin. Lilly warrel by haar klas in. Die kinders sit bo-op die banke en gesels luidrugtig. Salomé gee nie meer om nie. Lui, klok, lui! “Raai wat?” “Wat?” “Ek bly. Ek het ’n voltydse aanstelling gekry!” “Dis fantasties, Lilly. Ek is so bly.” Salomé gee haar ’n spontane druk. “Ja, die Groot Krokodil sê ek is onmisbaar en hy sal ’n paar posverskuiwings doen om my te kan behou. Woo-hooo!” Sy maak ’n wye draai. Die kinders raak skoon stil vir ’n oomblik en kyk na Lilly. Toe raas hulle verder. Lilly staan sameswerend nader. “Hy het nie die pos gekry nie,” kondig sy aan. “Hy?” “Dirk,” fluister sy. “Hy bly?” “Jip, hy bly.” Al die lug is uit Salomé se longe. Lilly kyk haar simpatiek aan. “Jy sal die berg moet klim, suster. Dit gaan nie opstaan en in die see verdwyn nie.” “Dis jammer,” is al wat sy kan uitkry.
Die gedagtes maal in Salomé se kop terwyl hulle huis toe ry. Hy gaan elke dag by die skool wees. Sy sal alles van die afgelope jaar weer saam met hom moet doen en hom daagliks in die oë moet kyk. Hy gaan nie weg nie. Al haar uitsien na ’n spanningsvrye werksomgewing is na die maan. Die laaste weke was loutere marteling. Sy het gedink sy kry dit reg om ’n beeld van normaliteit te handhaaf tot Petrus vir haar gesê het sy is so gespanne soos ’n snaar en wou weet wat aangaan. Dirk gaan nie weg nie. Sy kon nie slegter nuus aan die begin van die vakansie gekry het nie.
Die motor is uiteindelik gepak nadat hulle gister onverwags eers die bande moes vervang. Petrus was bang dat dit nie sou hou tot in die Kaap nie. Daar is dus hierdie jaar weer nie geld vir Kersgeskenke nie, dink Salomé wrang. Die kuier by haar ouers verloop goed en sonder te veel voorvalle, tot Talitha dit uitblaker: “Mamma gaan volgende jaar saam met Pappa Egipte toe, Ouma.” Sy het nie geweet die kind dink dis ’n feit nie. In die gespanne stilte wat volg, is dit duidelik hoe hierdie nuus ontvang word. “Watse nonsens is dit wat ek hoor?” konfronteer haar pa hulle later. “Watse nonsens, Pa?” vra Salomé en kry haar verdediging gereed. “Dat jy saam met Petrus na Egipte toe wil flenter?” “O nee, dis nie nonsens nie, dis die waarheid,” antwoord sy en sien hoe Petrus ’n glimlag onderdruk agter haar pa se rug. “Nou wat op aarde wil jy daar gaan loop staan en maak?” vra haar Pa. “Ek wil probeer verstaan, Pa.” “Wat verstaan?”
“Verstaan wat in my man se lewe en hart omgaan,” antwoord Salomé eerlik. “Nou vir wat vra jy hom nie net nie? Vir wat moet jy nou soontoe loop foeter?” “Ek het al baie gevra, Pa, maar ek verstaan nog steeds nie.” Sy voel hoe haar weerstand begin verkrummel. “En nou net om te loop staan en verstaan, sal jy nou jou arme bloedjies alleen agterlaat en na daardie klomp gevaarlike Mohammedane se land toe gaan om hulle nou sogenaamd te evangeliseer?” Haar pa is op die oorlogspad, dis duidelik. Sy oorweeg dit om hom uit te daag dat die kinders sommer kan saamgaan, maar sien Petrus glimlag beslis nou nie meer nie. “Pa, ons gaan hoofsaaklik na die gebiede in Egipte waarheen die toeriste ook gaan,” neem hy rustig die gesprek oor. “Dit is nie gevaarlik daar nie, want hulle verwelkom toerisme om hulle land se ekonomie aan die gang te hou. Ook gaan ons nie evangeliseer nie; dit is die plaaslike Christene se verantwoordelikheid. Hulle kan dit baie beter doen in hulle eie taal en met hulle begrip van die kultuur. Ons gaan om te bid vir die land.” “Nou vir wat bid jy nie van hier af nie? Die Here kan jou hier ook mos hoor.” ’n Ou argument wat Petrus al baie moes antwoord. “Daar is baie waarde daarin om persoonlik in ’n land te gaan bid sodat jy met insig kan bid. As jy sien hoe die mense van die land lewe, wat hulle omstandighede is, dan is ’n mens se gebede vir hulle baie intenser en meer spesifiek as wanneer jy van ’n afstand af bid. ’n Ander groot pluspunt is die feit dat ons die plaaslike Christene daar gaan bemoedig. Hulle het dit werklik nodig.” “Nou wil jy vir my kom vertel dat dit nie gevaarlik is nie? In daardie land mag die mense mos net Moslems wees. Netnou vermoor hulle julle daar en wie gaan dan julle kinders grootmaak? Nee, jou vrou en jou kinders is jou eerste verantwoordelikheid, nie al daardie mense oor die water nie. Ek sê dit mos al van voor julle getroud is, maar hoor wil jy nie hoor nie.” Sy wil antwoord dat Egipte nie “oor die water” is nie, maar hou haar in.
“Christenskap is onwettig in baie van die Arabiese lande, ja, Pa, maar nie in Egipte nie,” vervolg Petrus steeds rustig, hoewel sigbaar ontsteld. “Die kerk is wel erg in die minderheid en word onderdruk, maar dit is nie onwettig nie. Ons mag dus die Christene daar gaan besoek. Ons mag nie die Moslems probeer bekeer nie, dit is teen hulle wet. Wat die kinders betref, vertrou ons die Here met hulle en ons veiligheid. Die Woord sê dat ons nie een dag by ons lewe kan voeg nie; dus is almal se lewe in die Here se hande. Dit impliseer dat selfs al is ons in hierdie land, ons of ons kinders nog steeds iets kan oorkom. Ons neem egter nie hierdie besluite onoordeelkundig nie, Pa. Ons het daaroor gebid en ons beleef dat dit die regte ding is dat Salomé nou saamgaan.” “Wie gaan na die kinders kyk?” vra haar ma, duidelik ongelukkig. Skaakmat. “Ons weet nog nie,” antwoord Salomé eerlik. “Omdat dit vir ons so ’n groot besluit is, bid ons nog oor die detail daarvan.” Sy wens hulle kan verstaan hoe ’n groot besluit dit vir haar was, juis oor die kinders. “Wel, weet net ons hou nie hiervan nie. Nie ek of jou ma nie. Julle maak ons oud,” kry haar pa die laaste sê in voor hy uitstap. Haar ma gee haar ’n laaste betekenisvolle kyk voor sy hom volg. Salomé sak op die bed neer en begin huil. “Toemaar,” troos Petrus. Sy weet hy weet dat dit vir hom is wat hulle eintlik verkwalik en sy voel jammer vir hom, maar sê niks meer daaroor nie. Hoe wen jy jou skoonouers se guns as jy altyd teen hulle sin optree? Salomé kan nie wag om die volgende oggend te ry nie. Sy wil net die stilte, son, sand en see hê. Die spanning raak ondraaglik. “Geniet nou maar die paar weke by jou skoonouers,” groet haar ma vroegoggend en Salomé kan die jaloesie in haar stem hoor. Ewige druk vir meer: meer kuier, meer bel, meer konformeer, meer soos Ma dink.
“Dankie, Ma,” antwoord sy neutraal. “Ons sien julle weer op pad terug.”
Met elke uur en kilometer wat hulle ry, voel dit vir Salomé asof sy die spanning stuk-stuk agterlaat. Uiteindelik sien Markus die see eerste. “Ek kry ’n roomys!” jubel hy en skielik voel dit soos vakansie. Haar skoonouers is onbedreigend bly om hulle te sien. Hulle het oud geword, sien sy. Toe alles uit die motor gedra is, het die kinders reeds hulle swemklere aan. “Wil julle nie eers iets drink nie?” vra haar skoonma. “Nee!” koor die kinders. “Ons wil strand toe gaan.” So is hulle met hulle bleek velle laatmiddag al op die koel Kaapse strand. Plaaslike inwoners stap met hulle honde teen ’n stywe pas strandlangs. Die sout sproei waai vertroostend in Salomé se gesig. Sy sak op die koel sand neer en is bly dat die kinders die water ingehardloop het, Petrus agterna. Stilte, see, vakansie. Dankie, Here, dink sy met trane in haar oë. Sy is net so oneindig moeg. Sy gaan lê sommer skuins op die strand en kyk hoe hulle swem. Eers toe Petrus later laggend aangehardloop kom, word sy wakker. “Lê jy en slaap, my vrou?” vra hy verbaas. Sy is self verbaas. “Kom! Ons wag vir jou om te kom swem.” “Nee, dankie, nie in daardie yskoue water nie,” glimlag sy. “Kom sit dan net jou voete in die water,” moedig hy haar aan.
Hulle stap hand aan hand strand toe. Vakansie, spoel dit weer deur haar kop en moeë lyf. Dis uiteindelik vakansie.
Hoofstuk 24
WOESTYN, EGIPTE. DESEMBER 2010
Niemand het Saleh gewaarsku nie. Sy het soos altyd haar gewone gang gegaan met kantoorwerk afhandel en hulp verleen waar sy kan. Al wat anders was, is dat sy minder e-posse van hom ontvang het. En toe, skielik, staan hy voor haar. ’n Skadu van haar pragtige man, oneindig maer, bleek en skielik grys. Ashraf. Sy staan stom van skok, sien toe al die glimlaggende gesigte om haar en besef dit was as ’n verrassing beplan. Sy val in sy arms en klou aan hom vas. Sy lag en huil deurmekaar. Hy vryf oor haar hare en hou haar ’n armlengte van hom af, kyk na haar boepie en skud sy kop in verwondering. Met trane in sy oë vryf hy versigtig oor haar vol buik. Die trane stroom oor haar wange en so is dit ook met ’n paar van die omstanders, sien sy. Toe verdwyn hulle een-een subtiel. Sy het al hoeveel keer gedink aan wat sy alles vir hom sal sê wanneer sy hom weer sien, maar woorde is daar nie. Hulle hou mekaar net vas in die wonder van die oomblik van saamwees. Uiteindelik. Hulle lywe voel vreemd bymekaar, syne skreiend skraal en hare rond. Dit voel amper ongemaklik, maar tog, dis hy! “Hoe …?” begin sy. Hy glimlag so vol liefde af na haar met diep gesonke oë, steeds vol trane. “Lang storie waarvoor ek hoop ons baie tyd sal hê.” Sy klou weer aan hom vas. Daar is ’n fisieke pyn in haar bors om hom só te sien, geskend deur sy eie familie. “O, Ashraf, wat het hulle aan jou gedoen!” roep sy teen sy bors uit. “Ek het hulle lankal vergewe,” sê hy sag en opreg. “Ek prys God net vir elke asemteug wat ek kan gee en dat ek jou weer kan vashou. Dit was my hartsbegeerte vir maande, dit was wat my aan die lewe gehou het,” sê hy in haar
hare. “Ek kan nie glo dis jy nie! Ek kan nie glo jy’s hier nie,” sê sy deur haar trane. Sy voel selfbewus so in die oopte, met oë wat sekerlik van agter gordyntjies nuuskierig na hulle blye weersiens kyk. “Kom, waar is jou bagasie?” “Bagasie?” hy lag effe. “Ek het nie bagasie nie, Saleh,” sê hy met deernis. “O ja, natuurlik,” stotter sy effe selfbewus. Natuurlik besit hy niks meer nie. “Met niks het ek in die wêreld gekom en met niks gaan ek daaruit,” haal hy uit die Injeel aan. “Nou kom ek gaan wys jou my kamer.” Sy vat sy benerige hand. Hy sit egter sy arm om haar skouer vir ondersteuning. Ag, Vader! roep haar hart. Hulle stap stadig, moeisaam met hom wat aan haar vashou vir ondersteuning. Haar arm gaan maklik om sy smal middellyf. Daar is ’n klomp oë wat hulle agterna kyk. Toe verskyn liewe Amsah skielik uit die niet met ’n groot glimlag. Haar oë kyk steeds in twee rigtings gelyktydig en Saleh fokus op die regteroog, wat in haar rigting blyk te kyk. Haar vermoedens is bevestig; hulle is beslis dopgehou, glimlag sy na binne. “Hierdie kant toe,” beduie Amsah skielik na ’n heel ander rigting. Saleh frons, maar Amsah glimlag geheimsinnig. “Volg my.” Oral loer gesigte uit terwyl hulle verby die gangetjies met oop kamerdeure stap. Almal glimlag breed, asof hulle ’n geheim deel. Op met ’n stel steil trappe, weer op, regs, al agter Amsah aan. Toe staan Jawahir voor ’n deur aan die einde van ’n kort gang. Sy maak dit galant oop en wys hulle na binne. Dit lei na ’n klein dakwoonstelletjie, vriendelik gemeubileer met ligte kleure. Sagte musiek speel en die kantgordyne waai liggies in die bries. Saleh draai verbaas om na hulle. “Wat beteken dit?”
“Dis julle nuwe woonstel,” antwoord hulle opgewonde en met breë glimlagte. “Hassan en Nahed het dit pas vir julle laat uitverf en oorgedoen.” Saleh draai verbaas in die rondte en kyk na die pragtige plekkie. “Regtig? Is dit ons s’n?” Here, U ken elke begeerte van my hart, praat sy na binne. Amsah en Jawahir lag opgewonde. “Ons was so bang dat jy iets sou vermoed. Ons was so opgewonde. Kom kyk hier.” Jawahir gryp haar hand terwyl Ashraf teen die deurkosyn leun om sy asem terug te kry. Jawahir stap voor na die slaapkamer. Daar is ’n dubbelbed, spieëlkas en hangkas en in een hoek langs die bed staan ’n pragtige babawiegie gereed. Trane spring in Saleh se oë. “Dis pragtig! Ag, julle, dankie.” Sy draai om en sien Ahmed ook met trane in sy oë in die deuropening staan. Hy glimlag met haar. “Ons hoop julle sal baie gelukkig wees hier,” sê Amsah trots. “Ons sal beslis! Baie dankie vir julle moeite; dis wonderlik.” Saleh draai om en druk die twee meisies teen haar vas. “Maar dis dan my goed wat hier staan.” Sy wys na die spieëlkas. “Ons het dit vanoggend oorgedra toe jy in die kantoor gewerk het. Almal moes op die uitkyk wees om ons te waarsku as jy op pad is. Gelukkig het dit goed uitgewerk,” vertel Amsah borrelend. Saleh maak die kasdeure oop. “Ons klere en alles! Dankie, julle.” “Plesier. En hier is ’n kombuisie; ons het solank tee en eetgoed neergesit dat julle lekker kan kuier,” sê Amsah. “Sjoe,” sê Saleh verwonderd. “Ons is so bly vir jou Saleh,” sê Jawahir sag en vol deernis toe sy voor haar gaan staan en haar reg in die oë kyk. “Ons almal se gebede vir jou is verhoor.” Saleh voel skoon skaam. Sy was so in haarself gekeer die afgelope paar weke dat sy regtig nie uitgereik het na hierdie twee liewe meisies nie; net gewroeg het oor
haar eie probleme. Tog het hulle al die tyd in stilte vir haar gebid en haar laste help dra. “Nahed het laat weet jy is af vir die res van die dag. Julle is genooi vir aandete om sesuur by hulle woonstel,” groet die meisies terwyl hulle uitloop. “Baie, baie dankie, ons sal graag daar wees,” praat Ashraf vir die eerste keer.
Toe, uiteindelik, ná maande van verlang, is hulle alleen. Ashraf kyk na haar oor die lengte van die vertrek. “My pragtige vrou!” roep hy sag uit en maak sy arms oop. “My liewe man,” sê sy teen sy bors. Hulle staan lank net so. Die trane wat net aanhou loop, maak later ’n nat kol teen sy hemp. “Haai, dis my enigste hemp,” spot hy saggies. “Ek moet dit nog vanaand aantrek vir ete.” Sy lag saggies en trek hom na die rusbank. “Vertel nou eers hoe alles gebeur het. Dit voel of ek droom. Ek kan nie glo jy’s hier nie en ek kan nie glo ons het weer ’n eie plekkie nie, en ek is so bang ek gaan wakker word en dan is alles net weer weg,” sê sy met ’n snik in haar stem, alles in een asem. Hy trek haar weer styf teen hom aan. “Ek weet, ek weet presies wat jy bedoel. Maar ek is hier om te bly, so lank soos die Vader my lewe sal spaar.” “Nou begin by onlangs. Hoe het jy hier uitgekom?” “Sister Martha en Uncle George het per e-pos kontak gemaak.” “Hulle is engele.” “Ja. Ek was baie bly om van hulle te hoor. Hulle het baie versigtig uitgevra na waar ek is en het een hele nag deurgery om my te kom haal. Hulle het gevoel dat ek liewer hier by jou kan kom aansterk as om dit uit te stel tot ek gesond is.”
“Maar hulle net niks vir my gesê nie?” “Ja, hulle was bang iets loop skeef en wou geen ekstra spanning op jou plaas met die swangerskap nie.” Hy streel weer liefderik oor haar boepie. Die baba skop meteens. “Voel jy dit?” vra sy opgewonde. Sy oë is weer vol trane toe hy knik. Skielik leun hy met sy kop teen die bank se kussings terug. Hy is baie bleek. “Voel jy sleg?” vra Saleh besorg. “Ja, ek is jammer,” sê hy gefrustreerd. “Ek weet net nie wanneer my liggaam weer sterk gaan wees nie. Ek ooreis my so maklik.” “Ek kry gou vir jou tee en iets om te eet.” Sy roer ekstra suiker in die tee en is baie dankbaar vir die broodjies wat regstaan. Haar liggaam soek ook gereeld kos. Hy drink die tee, maar peusel net aan ’n broodjie. “Ek is jammer, Saleh, ek het so uitgesien na hierdie dag en nou wil ek net omkap.” “Dit maak glad nie saak nie, my lief. Ek wil net by jou wees.” “Sal jy my bed toe help? Ek wil asseblief gaan lê.” Sy kan nie glo dis haar sterk jong man van ’n paar maande gelede nie. Hy haak weer sy arm om haar skouer en leun swaar op haar terwyl hulle kamer toe skuifel. Sy help hom lê en trek sy skoene uit, gooi die lakens oor hom toe sy sien hy kry koud. Sy kyk lank na hom. “Ek het gehoop ek kan jou darem behoorlik wys hoe ek na jou verlang het,” sê hy met toe oë en ’n fyn glimlag om sy mond. Sy het gedink hy slaap al. “Daar is nog baie tyd daarvoor,” glimlag sy terug en gaan lê langs hom. Later hoor sy hy slaap diep, maar sy kan net vir hom kyk, elke nuwe diep lyn op sy gesig in haar geheue vaslê, elke nuwe grys haar, die kringe om sy diep
gesonke oë, die hoë wangbene. Onwillekeurig loop haar trane. My liewe man. Sy is bang as sy haar oë toemaak, sal sy wakker word en uitvind dis net ’n droom. Maar maande se spanning begin sy tol eis en sy sluimer ook in. Later ruk sy wakker, maar maak verlig weer haar oë toe. Ashraf slaap nog rustig langs haar. Sy kleur is beter. Sy staan saggies op en die bed kraak effens. Sluip uit die kamer en maak die deur saggies toe. Dit voel soos ’n vakansieplek, die nuwe woonstel, met die bries in die gordyne en die ligte kleure van die mure. Dit is koel, winter in die woestyn, maar sy stap na die balkondeure en stoot dit oop. Van hier af het sy ’n uitsig oor die mure van die sentrum en sien sy palmbome en skaapwagters met hulle skape in die verte. Sy sak in ’n stoepstoel neer en wag dat Ashraf wakker word. Hy sal baie moeg wees nadat hulle die hele nag gery het. Dit gee haar tyd om te dink. U het my gebede verhoor. My baba gaan ’n pa hê, ’n baie siek pa, maar ’n pa. Maak Ashraf asseblief gesond sodat hy sy seun kan rondswaai en op sy skouers kan dra. Asseblief, Vader. Dankie, Vader, dat U hom na my teruggebring het. Dit voel vir Saleh asof die Vader uit die hemel vir haar glimlag. Sy kyk op en glimlag deur haar trane terug.
Dit neem hulle lank om na Hassan en Nahed se woonstel te stap. Sy met haar arm styf om Ashraf se maer lyf, hy met sy arm om haar skouers. As dit nie so ’n goor ding was wat met hulle gebeur het nie, moet hulle voorwaar koddig lyk: sy rond en kort en hy lank en maer. Nou lyk hulle seker eerder soos oorlogsgewondes. Dit is so lekker om Ashraf hier te hê toe hulle saamkuier. Hy is beslis haar ander helfte. Waar sy ’n goeie maar terughoudende verhouding met Hassan en Nahed gehad het, is daar skielik ’n nuwe gemaklikheid met haar man hier. Hassan is gesellig en Ashraf luister belangstellend. Hy kan nie baie eet nie, maar hulle is nie geaffronteer nie. Boonop maak syself op daarvoor met haar gesonde eetlus. “Ek verstaan dat julle uit die Koptiese Kerk kom en dat die sentrum dus hier bestaansreg het, volgens die regering.” Hy beduie met sy kop na die
tatoeëermerk van ’n kruis op Hassan se pols, die Kopte se kenteken. “Wat ek nie verstaan nie, is dat hier internasionale gaste was vir opleiding van julle leerlinge hier. Hoe is dit moontlik dat julle mense van die buiteland hier kan kry sonder om in die moeilikheid te kom? Die veiligheidspolisie moet sekerlik tog weet wat julle doen, dat julle die Christendom bevorder, en dit is tog ’n geweldige risiko?” vra Ashraf later. “Ja, ons was Kopte, maar het intussen die evangeliese Christendom aangeneem. Moet egter nie dink ons kom nie in die moeilikheid nie,” sê Hassan stil en daar is spanningslyne om sy mond. “Ek is al meer kere as wat ek kan tel in hegtenis geneem en ondervra. Dit is verskriklik.” Hy en Nahed kyk in ’n gedeelde oomblik na mekaar. Jare se saamdra aan die stryd teen vrees en intimidasie. “Ek kan nie op ’n vliegtuig klim sonder om ’n paar ure se ondervraging by die reistyd te reken nie. Ons internasionale vriende is die lewensaar van ons bediening en daarom is dit belangrik dat ons dikwels by hulle uitkom. Die veiligheidspolisie doen egter hulle bes om ons so die skrik op die lyf te jaag dat wanneer ons uit die land gaan, ons sommer nie sal terugkom nie.” “Hoekom is dit julle lewensaar?” vra Ashraf. “Elke keer wat ek in die buiteland was, het ek nuwe vriende gemaak wat weet van ons werk hier en ons ondersteun. Nog ’n paar e-posadresse op ons lysie. Nog ’n paar mense om te laat weet van die nuus hier, nog mense wat bid en ons ondersteun. Daarom is daar dan groter deurbrake en natuurlik ook meer weerstand van die vyand. Dit loop hand aan hand. Dit is die ewige stryd en ons is geroep om te volhard, volhard en weer te volhard.” Daar is ’n lang oomblik stilte. “Die veiligheidspolisie doen hulle bes om die lewe hier vir ons so moeilik moontlik maak,” vervolg Nahed. “Hulle sal ons krag afsny en buitensporige rekeninge stuur wat ons moet betaal voor hulle dit weer aanskakel. Dan betaal ons dit met groot moeite, sonder dat hulle dit weer aanskakel. Die volgende keer stuur hulle dan gesondheidsinspekteurs om fout te kom vind. Dit kos natuurlik weer ’n spul geld om alles reg te stel volgens hulle belaglike vereistes. Dan weer ’n bou-inspekteur, en so aan en so aan. Hulle wil dit vir ons onmoontlik maak om met die werk voort te gaan. Daar was selfs al ’n afvaardiging van die veiligheidspolisie wat vir dae voor die hek stelling ingeneem het terwyl internasionale gaste hier was. Hulle het op die ou end niks aan ons of ons gaste
gedoen nie, maar intimidasie is hulle grootste wapen. Hulle wil natuurlik ook die buitelanders bang maak om hierheen te kom.” “Ons het ook al deur die jare geleer hoe meer buitelanders weet van ons en wat ons doen, hoe veiliger is ons,” neem Hassan weer oor. “Ons het deur die Vader se genade soveel internasionale vriende gemaak wat inkoop in ons werk hier, fisiek en geestelik, dat dit wêreldwyd bekend sal raak as daar iets met ons gebeur. Dit onderstreep maar weer die beginsel in die Injeel dat ’n mens dinge aan die lig moet bring en dit nie in die duisternis hou nie.” “Dit is nou vir my baie interessant,” sê Ashraf nadenkend. “Ons dink juis ons moet ons geloof ’n geheim probeer hou dat ons nie in die moeilikheid kom nie en julle maak dit eerder bekend, juis vir julle veiligheid.” “O, daar is ’n fyn lyn,” knik Hassan. “Moenie die waarde van geheimhouding onderskat nie. ’n Mens kry baie dinge vir die evangelie gedoen as jy nog onder die radar kan beweeg, as ek dit so kan stel. Onthou, die Woord sê ook ons moet opreg wees soos duiwe, maar versigtig, of dan slim, soos slange.” “Hoe bedoel jy nou?” vra Ashraf. “Toe ek jonk was en nog nie soveel internasionale vriende gehad het nie, kon ek hier in Egipte in mense se huise gaan kuier en selfs, wanneer ek gedink het hulle is gereed daarvoor, die evangelie met hulle deel. Daar kom natuurlik ’n tyd wat dit uitlek en die polisie van jou te hore kom. Dit was toe wat my internasionale vriende my veiligheid help vestig het. Ek kan nou glad nie meer net in iemand se huis instap nie. Ek word voortdurend dopgehou, my telefoon word afgeluister, my e-posse ondersoek. Ek is by voorbaat, net oor wie ek is, ’n bedreiging vir enigiemand wat met my assosieer. Wat nog te sê van die evangelie deel.” “Ek verstaan,” knik Ashraf. “Jy sal sien dat daar voortdurend ’n strategie moet wees om die vyand te uitoorlê,” voeg Nahed by. “Dit verskil in elke fase van ’n mens se geloofspad en daarvoor kan ons net die Heilige Gees vertrou.” “Daarom maak ons nou dissipels van mense, leerlinge, dat hulle weer kan uitgaan en vertel,” sê Hassan. “Meestal is dit Koptiese weeskinders wat by ons uitkom. Hulle is ’n teiken vir die Moslem-mans, soos julle weet. Hier het hulle beskerming en liefde gekry en hulle word die getrouste sendelinge.” Hy glimlag
sinies. “Vir ’n Koptiese weeskind sal die polisie my nog vergewe, maar vir ’n Moslem wat hom bekeer tot die Christendom, word ek nie vergewe nie. Dit word teen my opgeskryf om eendag met my af te reken.” “Is jy al gemartel?” vra Saleh versigtig. Hassan knik. Huiwer. Dis moeilik om daaroor te praat, kan sy sien. “Ek is. Hulle het my gearresteer en volgens die land se wette kan jy sestig dae in aanhouding wees sonder ’n formele aanklag teen jou. Hulle het my dus nooit aangekla nie, maar ure en ure ondervra, geslaan, verhonger, toegesluit, weer ondervra, elektriese skokke toegedien, onder my voete geslaan, gedreig om my te verkrag, aan my klere opgehang en … Ek kan eintlik nie die onmenslikheid daarvan verwoord nie.” Daar is trane in sy en Nahed se oë terwyl hy praat. “Waaroor het hulle jou ondervra?” vra Saleh. Sy voel naar. “Meestal oor die werk wat ons doen; hulle het iets gesoek waarmee ek die wet oortree het. Soos julle weet, is een van die grootste sondes in die Islamitiese geloof om hulle mense te proseliteer, hulle oor te haal tot die Christelike geloof. Hulle soek name van sulke bekeerlinge.” “Het jy?” vra Saleh bekommerd. “Bedoel jy het ek mense oorgehaal tot die Christengeloof, of name gegee?” vra Hassan met ’n fyn glimlaggie. “Albei?” “Ek het nog nooit iemand oorgehaal tot die Christengeloof nie, dit is gelukkig die Heilige Gees se werk. Daarom het ek geen name gehad om te gee nie,” omseil hy die netelige kwessie. “Ons is vir julle ’n veiligheidsrisiko!” roep Ashraf uit. “Ja en nee,” antwoord Hassan rustig. “Ek dink werklik nie die veiligheidspolisie weet al dat julle hier is nie. Ek vermoed jou familie dink jy is dood, Ashraf, maar hulle soek sekerlik nog na Saleh.” Hy kyk met deernis na haar. “As hulle die hulp van die veiligheidspolisie inroep, sal dit net ’n kwessie van tyd wees voor hulle hier begin soek. Ons sal moet bid vir strategie in julle saak, vir God moet
vra wat ons moet doen. Dit is net Hy wat weet wat die veiligste opsie vir julle is. Vir eers dink ek egter julle is veilig hier en julle kan hier leer en groei, wat vir my amper belangriker is. Om as Christen in hierdie wêreld staande te bly eis diep wortels in die fontein van die Woord en die Gees. Julle moet die geleenthede hier aangryp en leer. Ek was verheug toe ek sien hoe Saleh die woorde indrink van die mense uit Suid-Afrika wat ons kom versterk het.” “Ja, ek het baie by hulle geleer,” antwoord Saleh. Hassan knik. “Hulle verstaan ook iets van die probleme om in ’n land te lewe met mense wat soveel van mekaar verskil. Suid-Afrika het ’n geskiedenis van swart en wit mense wat mekaar gehaat het en nou probeer versoen. Haat en vergifnis verstaan hulle; daarom kan ons by hulle leer. Hulle kan weer baie by ons ook leer oor volharding en volharding en volharding.” Hy sê dit met ’n halwe glimlag. “Hulle kerke is baie gemaklik.” “Jy sê telkens volharding drie keer?” sêvra Saleh. “In die Injeel het Paulus ook goed wat belangrik is drie keer gesê. Die ander kant daarvan is dat volharding werklik heeltyd aanhou. Dit voel net nie genoeg om dit een keer te sê nie,” glimlag hy. Dit word stil tussen hulle. “Ons het julle twee lank opgehou,” sê Nahed vriendelik. “Ashraf moet gaan rus.” “Ons is julle so baie verskuldig,” antwoord Ashraf, opreg en bewoë. “Ons het niks om aan te bied behalwe ons diens aan julle en ons lojaliteit nie.” “Dit is vir ons ’n eer om God se kinders hier te huisves,” antwoord Nahed. “Gaan in vrede en herstel goed in hierdie tyd. Die sentrum is rustig tot in Januarie, wanneer ons weer met baie ywer begin. Ons bid dat jy teen daardie tyd jou kragte sal terughê, Ashraf, en jou vrou weer die glans in haar oë,” glimlag sy. “Ek dank u,” groet hulle formeel. Hulle stap die kort entjie na hulle woonstelletjie met moeite terug – in stilte, diep onder die indruk van wat hulle gehoor het. Wat lê vir hulle voor? Hulle het nooit besef hoe hierdie pad wat hulle gekies het, sal verloop nie.
Hoofstuk 25
KAAPSE KUS. DESEMBER 2010
Met die aanhoudende uitrol en terugtrek van die branders het die spanning in Salomé begin skietgee. Hoe is dit moontlik dat sy so min wil doen? Sy wil net uur na uur op die strand sit en staar na die see en kyk hoe die kinders baljaar. Af en toe lees sy ’n bietjie, maar selfs dan wend sy nie ’n vreeslike poging aan nie. Sy wil net wees. Is dit moontlik dat ’n mens so gedaan kan wees dat jy nie eens wil dink nie? Petrus geniet die branders en speel met die kinders op die sand. Haar skoonma het aangedring om vir die etes te sorg sodat Salomé ’n blaaskans kan kry. Sy self het geen eetlus nie en is dankbaar sy hoef nie oor potte kos te staan en swoeg nie. Vir die eerste keer in jare voel dit of sy amper geen verantwoordelikhede het nie. Niks wat dringend moet klaar nie, geen skedule of rooster nie, sy hoef nie eens aan die kos te dink nie. En noudat sy net kan wees, voel sy skoon stomdom, vasgevang in ’n borrel van tydloosheid en niks. Sy dink nie diep nie, delf nie te veel nie, sy is net. Almal laat haar begaan, veral Petrus. Hoeveel begrip het hierdie liewe man van haar nie. Af en toe wanneer dit regtig mooiweer is, sal sy saam gaan swem. By die agterste groot branders waar sy diep onder die water kan induik wanneer die golwe oor haar breek en breek. Soos terapie, massering op ’n leë gemoed. Markus kan nie glo dat hulle ma so kan swem in die diep branders nie en dit het haar vir seker in sy agting laat styg! Talitha is maar bangerig vir die golwe en sy en Alexander baljaar in die vlak water, maar Markus hou al by haar met sy swemplank. Watter dag is dit ooit? Sy probeer halfhartig dink en los dit dan weer. Wat maak dit saak? Sy hoop net nie haar kinders ly skade omdat sy in haar borrel is nie, dink sy amper onsamehangend. Tuis speel Oupa en Ouma bordspeletjies met hulle en vermaak hulle met visvang en fietsry terwyl sy ure lê en slaap of lees.
Dit is of hulle ’n stille ooreenkoms gemaak het om haar “af” te gee. Sy is te moeg om skuldig te voel daaroor en geniet net die vrede daarvan. Af en toe sal ’n kind sommer net ’n bietjie langs haar kom lê en gesels. Maar sy het nie veel te sê nie, dus verdwyn hulle dan maar weer vinnig na opwindender vermaak. Petrus kyk haar met oë vol deernis aan en hou haar snags styf vas. Hy wag dat sy self begin praat, sy weet. Maar sy het net regtig niks te sê nie. Sy is op ’n plek van niks, heeltemal niks. Die gedruis van die water smelt amper so ineen met haar gedagtes dat dit voel of sy selfs ook niks buiten dit kan hoor nie. Sy voel onsigbaar, onhoorbaar, onvoelbaar. Sy moes omtrent ’n week in haar borrel gewees het, of was dit dalk tien dae? Maar een oggend word sy vroeg wakker. Die huis is stil en dis bewolk, wat dit nog stiller maak. So helder wakker is sy dat dit amper surrealisties is. Sy trek saggies aan sodat sy Petrus nie wakker maak nie. Sy gesig lyk so salig, amper asof hy in sy slaap glimlag. Liewe man. Die strand is stil, met net enkele stappers en drawwers wat nie gekom het vir geselskap nie. Gelukkig. Eers stap sy stadig, toe al hoe vinniger en vinniger asof ’n dringendheid haar jaag. Sy weet nie waarheen nie, maar sy stap en stap tot haar bene pyn van die inspanning. Later voel sy hoe die sweet en trane meng. Trane. Uiteindelik. Wat ’n verligting dat sy meteens weer kan huil. En sy huil verskriklik. Sy snik skoon, dink sy verras. Gelukkig hoor net sy en die golwe dit. En die Here. Dis meer asof haar gees huil, want sy weet wraggies nie waaroor anders sy huil nie. Is sy liggies aan die mal word as sy al begin dink haar gees huil? Wat op aarde beteken dit? Sy lag amper hardop vir die binnestryd oor watse huil sy huil. Niemand is nou meer naby nie. Sy gaan sit op haar knieë op die sand naby die vlak water se golwe en laat die soutwater uit haar oë toe om met die see se water te meng soos sy vooroor buk en ween. Here, onse Here, hoe groot en magtig is U dade oor die hele aarde. Oor en oor weerklink dit in haar gees, eers sag en al hoe harder. Sy weet dit kom van binne en nie van buite haar nie, maar dit voel of die hele wêreld dit in hierdie oomblik moet kan hoor, al hoe harder: Here onse Here, hoe groot en magtig is U dade oor die hele aarde. Salomé kan met haar hele wese net fokus op wat sy in haar gees hoor. Dit is asof sy klein word in die sand en al wat sy kan hoor, is iets soos ’n skare engele wat die woorde rondom haar uitbasuin. Dit is so anders as wat sy gedink het engele
sal klink en tog so presies reg, so dinamies, so kragtig, so waar. Dis ’n oorverdowende geluid in haar binneste en sy sê dit hardop saam. Só word sy teruggeruk na die hier en nou, en dit is asof dit die eerste keer is wat sy haar eie stem hoor: “Here onse Here, hoe groot en magtig is U dade oor die hele aarde.” Onmiddellik is die atmosfeer anders. Die see ruis weer voort soos altyd. Sy sit steeds op haar knieë. Daar is steeds niemand naby nie. Stilte begroet haar, en daar is iets soos ’n glimlag in haar gees. Ek weet nou glad nie wat hier gebeur het nie, Here? praat sy geluidloos na bo. Sy sit baie lank so. Ure? Sy weet nie. Maar iets in haar is verlig, gesond en anders. Hoe is dit moontlik dat sy pas ’n engelekoor gehoor het en niemand anders is daarvan bewus nie? Uiteindelik stap sy huis toe. Haar gees is wakker. Lig. Sy kan nie help om haar skoonma se woorde te hoor toe sy om die hoek van die huis kom nie: “Maar is sy siek, Petrus? Sy is glad nie haarself nie, lus vir niks. En nou verdwyn sy net?” “Goeiemôre,” groet sy opgewek. Haar skoonouers, Petrus en die kinders kyk verras op. “Waar was Mamma?” vra Markus. “Ek het gaan stap op die strand.” Daar is verligting op Petrus se gesig. “Maar ons wonder al die hele oggend waar jy is! Jy is al ure weg.” Haar skoonpa ken nie vrouens wat dinge op hulle eie doen nie. Hy en haar skoonma doen altyd alles saam. “Jammer, Pa, ek het tred met die tyd verloor.” “Jy kon jou selfoon saamgevat of net ’n briefie geskryf het, kind. Ons was gedaan van bekommernis,” voeg haar skoonma by.
“Jammer, Ma, ek het nog nie eens my selfoon aangeskakel hierdie vakansie nie. Ek sal volgende keer onthou.” Sy is regtig jammer dat sy hulle laat skrik het. Sy laat hulle effens onthuts in die kombuis agter toe sy kamer toe stap om haar selfoon te gaan opspoor. Petrus kom hang teen die kosyn, takseer haar. “Lekker gewees?” “Ja, dankie,” antwoord sy ontwykend. Sy sal hom later alles vertel. Hy sal verstaan. “Jy lyk goed,” vis hy. “Dis goeie nuus,” lag sy. “Jy lyk baie goed.” Hy laat los nie. “Ek dink ek is nou uiteindelik wakker. Hoe lank was ek in my koma?” vra sy lighartig. “Kommerwekkend lank,” spot hy en kom druk haar. “Maar ek is so bly jy is weer wakker.” Sy oë lag. “Sal jy my sê wat jou wakker gemaak het, dat ek dit kan onthou?” “Die engele.” “Het jy hulle nommer?” sug hy moedeloos. “Nee, net hulle adres,” antwoord sy geheimsinnig. Hy kyk haar effe dronkgeslaan aan, maar voor hy weer kan uitvra, sê sy: “Kom ons gaan eet; ek is rasend honger.” “Vroumense,” brom hy goedig.
Later sien sy al Lilly se SMS’e wat sy die afgelope tyd gemis het. Hi, dolla. Hoop jy sit met jou tone inni seesand en vergeet van als by di skool. Ons pas aangekom by skoonfamilie. Bid vir my.
Arme ding. “Dolla, ek hoop jou skoonma is beter as myne. Mensdom, sy werk op my senuwees. Ek moet heeldag regop sit en kuier in die sitkamer en ek het gedink ons gaan BABAS maak die vakansie. HELP. Salomé lag hardop. HELP! Is somebody out there? Sy maak my kêns, ek sê jou. En lovey-dovey sê ek moet haar net ignoreer. Hoe ignoreer ’n mens ’n orkaan of ’n aardbewing of my skoonma? Ek gaan nou skelm ’n dop drink. Agge nee, Lilly. O hel, nou’s ek inni moelikheid. So lekr gekuier met ’n paar oulike girls in die pub en VROEGoggend eers teruggesluip huis toe. Lovey glimlag net vir my, maar skoonma reken ek is so reg uit di hel. Ek het so ’n babelas dat dit voel of sy in stereo raas. Hoekom voel dit skielik of ek weer op hoërskool is? Ek gaan nou eers lê. Laat weet my asb. of jy nog lewe? Jy’s so stil soos ’n landmyn. Hoe het sy so ’n vriendin gekry? Sy sou nooit raai dat sy so baie kan hou van iemand so aweregs nie. That’s it. Ons is ons erfporsie kwyt deur my toedoen. Maar ’n dag langer duld ek dit nie. Jip, ons ry voor Kersfees. Grootste en lekkerste sonde ooit. Ek het ons ingeboek by ’n plekkie op die Weskus. Nie gebudget daarvoor nie, maar dankie tog vir die kredietkaart … Live on the WILD side. Ek bel en bel jou, maar jou foon is af. Ek hoop dis omdat jy rus. Love ya. xx Lilly. Kersfees? Is dit al amper Kersfees? Sy sal moet bykom. Miskien moet sy vir Lilly skryf van die engele; sy sal haar glo. Maar ’n mens skryf seker nie so iets per SMS nie. Dus skryf sy net: Geniet julle eie Kersfees. Als goed hier. Omring deur engele.
Kersoggend gaan stap sy vroeg. Die kinders slaap nog ná die laat nag waarop Oupa en Ouma vir hulle geskenke uitgedeel en hulle Kersliedere gesing het. Hulle sal vanoggend na die later kerkdiens toe gaan. Kersdag.
Dankie, Here, vir Kersfees. Jesus is nie regtig op 25 Desember gebore nie, sy weet, maar daar is seker ’n goeie rede hoekom ’n mens nie presies weet wanneer dit was nie. Sy stap lank in stilte. “Moet ek Egipte toe gaan, Here?” Dit sal jou lewe verander. Sy gaan staan sommer stil. Ek wil die regte ding doen, ek wil doen wat U wil hê! roep haar gees uit. Dit sal jou lewe verander. Sy weet nie mooi wat om daarvan te maak nie en stap weer verder. “Here, hierdie ding met Dirk by die skool …” Sy weet nie hoe om dit verder te verwoord nie. “Hoekom het U hom nie na ’n ander skool toe laat gaan nie, Here?” Stilte. “Dit pla my, Here. Ek dink regtig nie ek het skuld aan sy gevoelens nie en tog voel ek skuldig. Wat moet ek doen?” Vertel vir Petrus. Nee. Tog sekerlik nie. “Here, dit sal mos net meer skade doen as goed?” Stilte. Sy stap nog lank en soek na Kersvrede rondom die gedagte dat sy nie vir Petrus van Dirk vertel nie. Sy kry nie daardie vrede nie. Goed. As die tyd reg is, sal sy praat, neem sy haar voor toe sy huiswaarts keer. Laataand is daar ’n rustige gemoedelikheid om hulle soos hulle lê en lees op die bed. Sal sy nou praat? wonder sy paniekerig. Sekerlik darem nie op Kersaand nie? ’n Mens bederf dit darem nie met sulke nuus nie. Maar miskien moet sy tog … “Hoor net hier,” sê Petrus. Hy lees die nuus op sy skootrekenaar. “ ’n Jong man het homself verlede week op 17 Desember in Sidi Bouzid, Tunisië, aan die brand gesteek.”
“Hoekom?” “Hy was die alleenbroodwinner vir ’n gesin van agt. Blykbaar het die polisie hom al vir jare geteiken. Hy het groente verkoop en dit lyk my daardie dag het ’n polisievrou hom weer beledig en sy stalletjie omgegooi, sy goed gekonfiskeer en hom selfs geklap. Hy het eers die boete probeer betaal om sy ware terug te kry en toe dit nie werk nie, is hy na die regeringsgebou om te gaan kla en daar lag hulle toe vir hom. Toe gooi hy homself vol petrol en steek hom voor die regeringsgebou aan die brand.” “Daaroor? Ek verstaan nie.” “Onthou, in die Midde-Ooste het hulle mos ’n kultuur van eer teenoor skaamte. Om in die publiek deur ’n vrou geslaan te word is ’n verskriklike vernedering. As jy boonop vir jare en jare onderdruk en in die openbaar verneder is, word dit seker een dag net te veel.” “Sjoe, maar dis drasties,” sê sy vraend. “Sy ma sê dit is oor waardigheid dat haar seun homself aan die brand gesteek het. In Tunisië is waardigheid belangriker as brood.” “Was hy ’n Christen?” “Hulle sê nie. Ek dink nie so nie. Sy naam is Mohamed Bouazizi. Hy is maar ses en twintig jaar oud.” “Ek neem aan hy’s dood?” “Nee. Hy veg nog om sy lewe in die hospitaal. Maar sy daad het die jong mense nou omtrent aangesteek. Hulle betoog in die strate en maak amok. Dit is nogal ’n vreemde verskynsel in hierdie Moslem-lande, waar die kultuur en die geloof van Islam jou leer om jou te onderwerp aan gesag.” “Dit bly maar erg en dit was tog so onnodig.” Hy kyk haar skewekop aan. “Ek weet nie; hy het ’n baie sterk stelling gemaak in ’n land waar jy nie toegelaat word om stellings te maak nie.” Sy kan niks daarop antwoord nie. Hoe min verstaan sy tog van sy wêreld.
Spanning maak al weer ’n dowwe kol op haar maag.
So gaan nog ’n week verby waar sy nie die moed kan bymekaarskraap om met Petrus oor Dirk te praat nie en die spanning bou op. Nuwejaarsoggend gaan sy weer stap. 2011. Dit klink soos ’n vals noot. Here, ek kry dit nie gedoen nie. Wat keer jou? Sy weet nie. Petrus is nie onredelik nie. Is sy bang hy dink dalk tog sy het ook soos Dirk gevoel omdat sy al so lank stilgebly het? Is sy te trots? Bang. Sy dink sy is net bang om hom te sê. Bang waarvoor? Sy weet nie presies nie. Goed, Here, ek sal dit sommer vandag doen. Met hierdie voorneme stap sy huis toe. Sy het skaars by die deur ingestap of sy sien daar is fout. Petrus is grys in die gesig. Sy oë is waterig. “Wat’s fout?” Die skrik kom van baie diep in haar. Haar hart klop swaar. Hy skud sy kop weemoedig. “ ’n Bom, by ’n kerk in Aleksandrië in Egipte.” Sy trane is gebore uit woede en magteloosheid, besef Salomé. “Wat het gebeur?” “Niemand is heeltemal seker nie. Die Koptiese Christene was by ’n middernagdiens en dit lyk asof ’n motorbom daar geplant is, of dalk het ’n Moslem-selfmoordaanvaller homself daar opgeblaas toe hulle uit die kerk stap.” “Hoeveel mense?” “Nog nie seker nie, maar sover twintig.” Daar is afgryse in sy stem. “Iemand wat jy ken?” “Nee, nie persoonlik nie. Maar tog is elkeen van hulle my broer en suster.” Hy kyk haar vas in die oë en sy stem is intens. “Die sendelinge daar het my laat weet. Hulle ken die Koptiese priester van daardie gemeente. Hulle almal is
stukkend.” Sy voel naar. Die skrik sit baie diep. Sy wil Egipte toe gaan, maar dit is regtig gevaarlik. Alles flits deur haar kop. En: Sy sal hom nie nou kan vertel nie. Hulle pak dieselfde oggend op. “Ek is jammer, Ma. Ek moet by die kantoor kom,” maak Petrus verskoning. “Dis reg, my kind, ons verstaan. Ek maak solank padkos.” “Kan ek dalk gou bel, Ma? Dis ’n internasionale oproep,” vra hy. “Natuurlik.” Die hele atmosfeer is anders. Die kinders is skoon verskrik. “In watter land is dit, Mamma?” vra Talitha bekommerd. “Egipte.” “Waarheen Mamma saam met Pappa wil gaan?” Salomé se hande verstil waar sy inpak. Sy kyk met deernis na haar dogtertjie en knik. “Sal Mamma ook doodgaan as Mamma gaan?” vra sy met ’n groot frons. Salomé gaan sit op die bed en maak haar arms oop vir haar kind. Sy druk haar styf vas. “Ek weet nog nie of ek saamgaan nie, Talitha.” “Hoekom het die Here nie daardie mense beskerm nie, Mamma?” Hoe antwoord ’n mens so ’n vraag? “Ek weet nie, my kind, ek weet nie.” Tydens die lang pad huis toe, volg hulle elke uur die nuus oor die radio. Dis telkens die laaste nuusberig van die bulletin. “Dit blyk dat Al Kaïda-ekstremiste verantwoordelik was vir die aanval op kerkgangers. Die dodetal staan op een en twintig en daar is ’n onbevestigde aantal beseerdes.”
Hoofstuk 26
WOESTYN, EGIPTE. JANUARIE 2011
Die sentrum is halfverlate en dis koud; die meeste mense bly binnenshuis en in hulleself gekeer. Alle aktiwiteite het deur die loop van verlede maand tot stilstand gekom. Dié wat familie het, het gaan kuier. Die paar jongmensweeskinders wat oorgebly het, gaan stilweg hulle gang, almal dankbaar dat die gewoel van die jaar nou eers tot rus gekom het. Saleh en Ashraf is ook nou weeskinders. Maar die wonderlike heerlikheid van mekaar se teenwoordigheid maak dat hulle nie so voel nie. Die geselligheid van hulle woonstel maak die dae vrolik en lig. Die rus en liefde doen Ashraf goed, kan Saleh sien. Hy kan al vir langer rukke regop sit en lees of gesels. Daar is weer kleur in sy wange. Dit voel of hulle twee in ’n weggesteekte droomwêreld is. Hassan en Nahed het by hulle kinders gaan kuier. Dus gaan Saleh daagliks kantoor toe om die enkele e-posse te lees en beantwoord. En toe, vanoggend, die e-pos oor die bom … Dis asof die doodse stilheid om hulle bydra tot die verskriklike nuus. Die ontstelde Koptiese priester smeek vir gebed en regverdigheid in hulle deurmekaar land. Saleh sit ’n oomblik verstom voor die skokkende letters op die rekenaarskerm en wip soos sy skrik toe die telefoon in die stil kantoor lui. “Ag, dankie tog, julle’s daar, Nahed!” roep die ontstelde vrouestem verlig aan die ander kant uit. “Het julle die verskriklike nuus gehoor?” “Nee …” begin Saleh.
“Het jy nie gehoor nie, Nahed? Daar was ’n bom by die kerk in Aleksandrië!” “Ons het gehoor van die bom, maar …” probeer Saleh. “Ons moet dadelik gaan help!” roep die vrouestem weer. “Ons het gehoor, maar Nahed is nie hier nie,” druk Saleh deur. “O.” Die stem is afgehaal. “Met wie praat ek dan?” “Dis Sa… Talibah,” dink sy vinnig. “O. Ek ken jou nie.” “Kan ek ’n boodskap vir Hassan en Nahed stuur?” “Toemaar, ek sal hulle op die selfoon skakel. Bid intussen vir die slagoffers en hulle families.” ’n Opdrag. “Ek maak so.” Ag, Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie, bid sy vir die terroriste en nie die slagoffers nie. Sy wip weer van die skrik toe die foon weer lui. “Saleh,” sê Nahed, “jy het seker gehoor?” “Ja.” “Ons gaan dadelik Aleksandrië toe, na ons vriende daar. Ek weet nie hoe lank ons daar sal wees nie. Sal jy die fort kan hou?” “Ja.” “Bid, asseblief.” “Reg so.” Die foon lui kort daarna weer.
“Sally?” vra die stem aan die ander kant. Petrus. Die skrik en die blydskap kom sit gelyktydig in haar lyf. “Hallo, Petrus.” “Ons het gehoor.” “Ja.” Sy weet nie wat meer om te sê nie. ’n Oomblik stilte. “Ek is so jammer.” “Ja.” Sy kry niks meer uit nie. “Is Hassan daar?” “Nee, hulle het by hulle kinders gaan kuier. Hulle ry nou Aleksandrië toe.” “Ja, dit maak sin. Laat weet asseblief as daar iets is wat ons kan doen.” “Goed.” “Ons bid vir julle almal se veiligheid.” “Dankie.” “Ekskuus, Saleh,” voeg hy verskonend by, “hoe gaan dit nog met jou?” “Dit gaan goed, dankie. Ashraf het gekom.” “Jou man! Dis wonderlike nuus.” Sy stem helder sommer op. “Hy is nog swak, maar hy word elke dag beter.” “Ek het vandag hierdie stukkie goeie nuus nodig gehad, Saleh. Ek weet nou ons bid nie verniet nie, al is die stryd so groot.” “Dankie, Petrus.” “Nou ja, ek moet aflui. Sterkte daar. Julle’s nie alleen nie,” verseker hy haar. Hoe mooi klink die woorde.
Só gaan dit vir die volgende uur of wat. Geloofsvriende wat wil weet wat om te doen, hoe hulle kan help. Eintlik wil almal seker ook net hulle smart daaroor met iemand anders deel. Sy het nog nie eens kans gehad om vir Ashraf te gaan vertel nie. Later verskyn hy in die deurkosyn. Bleek, sweet op sy voorkop, maar met ’n skewe glimlag. “Ek het verlang.” Sy spring op. “Het jy alleen tot hier geloop?” vra sy ontsteld. “Ek het darem baie gerus langs die pad.” Weer die skewe glimlag. Sy help hom na ’n stoel. Hy kyk haar skerp aan. “Iets het gebeur?” Ashraf laat sak sy kop in sy hande toe sy klaar vertel het. “Mag die Here ons almal vergewe,” fluister hy. Hy voel soos sy, weet sy. Skuldig. Want die aanvallers was voorheen hulle mense. Want dit is soos hulle wat hulle twee ’n jaar gelede nog gedink het. Hulle sit in doodse stilte toe die foon weer lui. Sy waggel na die foon. “Sien julle wat ons kan doen?” sê die uitdagende stem aan die ander kant. Saleh se asem ruk in haar keel en Ashraf kyk dadelik op. Haar hand vou om haar buik waar die baba skielik skop. “Moenie dink julle is veilig nie.” Die foon klik in haar ore.
Hulle is later ’n groepie geskokte gelowiges bymekaar in die woonstel. Saleh en Ashraf sê eers vir niemand van die oproep nie. Was die oproep vir haar of vir hulle bedoel, of vir Hassan en Nahed? Weet iemand waar hulle is? Waar hulle wegkruip? Haar hart klop swaar en seer. Sy vou haar arms styf om die baba in haar buik.
Ashraf het hulle gelei in gebed vir die beseerdes en die geliefdes. Hy het ’n nuwe outoriteit en deernis wanneer hy bid, merk Saleh op. Later skakel hulle Hassan en Nahed se TV op die BBC-kanaal aan. ’n Skare Christene drom saam en vee al huilende oor die bloedspatsels op die prent van Jesus voor die kerk. Die prent is voor die kerk se deur aangebring. Hulle eie mense se bloed … Die netjiese nuusleser berig dat president Mubarak in ’n seldsame televisieonderhoud gesê het die aanval dra die kenteken van “vreemde hande”. ’n Ooggetuie het later aan die private On-TV-kanaal gesê hy het kort voor die ontploffing twee mans in ’n geparkeerde motor buite die kerk gesien. Amptenare het aanvanklik gemeen dit was ’n motorbom, maar die ministerie van binnelandse sake het later dié moontlikheid uitgesluit en dit as ’n selfmoordbomaanval bestempel; die aanvaller is dood in die skare gevind. ’n Nabygeleë moskee is ook in die aanval beskadig en die ongevalle sluit agt beseerde Moslems in, het die ministerie van gesondheid gesê. ’n Jong seun met verbande om sy kop verskyn op die skerm. Volgens die sewentienjarige Marcos Boutros was die laaste ding wat hy gehoor het, ’n kragtige ontploffing, waarna sy ore tydelik verdoof is. Al wat hy kon sien, was liggaamsdele wat oor die hele terrein versprei was. Die groepie sit vasgenael voor die kassie. “Volgens Yolande Knell, ’n Midde-Oosterse kenner, het sektariese spanning in die afgelope tyd oor die hele Egipte toegeneem, met gewelddadige insidente elke paar weke. Die sekuriteitsmaatreëls word oor ’n breë spektrum gekritiseer. Polisie se optrede om hulle verantwoordelikheid jeens sektariese minderheidsgroepe na te kom is dikwels so laat dat dit die voorvalle laat eskaleer.” “Ja!” roep ’n jong man spontaan. “Vertel vir die wêreld wat hier gebeur.” “Sjuut, Butros!” “Wanneer sulke misdade plaasvind,” vervolg die nuusleser, “lei dit tot blindelingse arrestasie van Christene en Moslems, gevolg deur versoenende vergaderings. In nege en negentig persent van die gevalle word die oortreders nie vervolg nie. Amptenare ontken dan dat daar sektariese probleme is en reageer
eenvoudig op hierdie konflik met ’n oproep tot nasionale eenheid. Selfs al sal buitelandse kontakte bewys word, sal die skaal waarop die jongste aanval plaasgevind het, dit moeiliker maak om sektariese geweld te ignoreer. Ure ná die aanval het president Mubarak op die staatstelevisie verskyn om sy skok uit te spreek en te onderneem dat diegene agter hierdie aanval opgespoor sal word.” Die president se gesig verskyn op die skerm. “Hierdie daad van terrorisme het die land se gewete geskud, ons geskok en leed in die harte van Moslems en Koptiese Egiptenare veroorsaak,” word hy aangehaal. “Die bloed van martelare in Aleksandrië het vermeng om die boodskap aan ons uit te dra dat die ganse Egipte die teiken is en dat blindelingse terrorisme nie onderskei tussen Kopte en Moslems nie. Dié sondige daad is deel van ’n reeks pogings om ’n wig tussen Kopte en Moslems in te dryf, maar Allah het die samesweerders se planne in die wiele gery en dit het teen hulle gedraai. Ons is almal saam in hierdie ding en ons sal terrorisme die hoof bied en dit oorwin.” Die enigmatiese nuusleser vervolg: “Egipte se top-Moslemleiers het ook hulle meelewing en eensgesindheid uitgespreek. Die Moslem-Broederskap het gesê geen godsdiens ter wêreld kan so ’n misdaad goedkeur nie. Maar die Koptiese aartsbiskop Arweis het gevra waarom daar so min sekuriteit op so ’n sensitiewe stadium te midde van soveel dreigemente komende van Al Kaïda was.” Butros spring weer op. “Want hulle voel ’n veer om ons te beskerm!” antwoord hy die aartsbiskop se retoriese vraag. “Sit nou,” raas die ander. Maar die nuus het aangeskuif na ander gebeure. “Ek het nie al die Engels goed verstaan nie, Saleh. Wat gaan aan?” vra Amsah op haar eenvoudige manier, een oog op Saleh en die ander een wie weet waar. “Die wêreld het hierdie bom hoor ontplof, Amsah,” antwoord Ashraf.
Hoofstuk 27
SUID-AFRIKA. JANUARIE 2011
Salomé bel haar ma op pad. “Ons ry vandag al terug, Ma. Ons het gewonder of ons vanaand daar kan oorslaap?” “Wat het gebeur? Het julle konflik gehad met jou skoonouers?” vra sy hoopvol. Salomé sluk die katterige antwoord terug. “Nee, Ma,” antwoord sy gelykmatig. “Petrus moet teruggaan vir sy werk. Daar is ’n krisis in die Midde-Ooste.” “Watse krisis?” vra haar Ma. “ ’n Bom, by ’n kerk in Egipte.” Stilte. “Nou moet julle vroeër terugkom van vakansie omdat daar ’n bom in Egipte was?” vra sy verwonderd. “Ja, Ma.” So neutraal as moontlik. Sug. “Ek sal daardie man van jou nooit verstaan nie. Dis reg, Salomé, julle kan kom oorslaap.” “Dankie, Ma. Ons sal seker eers vanaand daar aankom.” “En wanneer vertrek julle weer? “Môreoggend vroeg.” “Gaan julle dan net die een aand oorbly?” “Ja, Ma. Daar is mos ’n krisis.” Sy probeer kalm bly.
“Ja, ’n bom in Egipte,” antwoord haar ma sarkasties. “Dis reg. Ons sien julle dan later.” Salomé lui af. Petrus se gesig spreek boekdele. Hy kon sekerlik sy eie afleidings maak uit haar deel van die gesprek en sy probeer nie meer verskonings maak vir haar ouers nie. Dis 1 Januarie en die gewone toutrekkery het weer in volle swang begin, dink sy wrang.
Petrus het geen eetlus nie, kan Salomé sien. Hy pik aan sy kos en probeer ’n hoflike gesprek met haar ouers voer, maar sy gedagtes is elders. Sy kompenseer dus deur die gesprek aan die gang te hou en selfs nog kos op te skep sodat haar ma nie geaffronteer voel nie. Genadiglik babbel die kinders saam en eet ook gulsig van hulle ouma se lekker kos. “Petrus,” begin haar pa in sy kerkraadstem. “Jy oorweeg sekerlik nie meer om my dogter na Egipte te sleep nie, nè?” Petrus kyk stadig op. Dit lyk of hy eintlik op ’n ander plek was en nie aan haar ouers se etenstafel nie. Hy glimlag stadig en kyk met sagte oë in Salomé se rigting. “Ek sal haar nooit saamsleep nie, Pa,” antwoord hy rustig. “As sy wil saamgaan, is dit uit eie, vrye wil.” Sy wil hande klap, maar doen dit liefs nie. “Maar julle kan tog sien dis lewensgevaarlik. Julle oorweeg dit sekerlik nie meer nie?” gooi haar ma wal. “Ek en ’n groep gaan einde Januarie. Ek is verskriklik bly ons tydsberekening het so uitgewerk, want ek kan nie wag om daar uit te kom nie,” verstom Petrus hulle. “Maar Salomé?” vra haar ma weer. “Nie Januarie nie, nee, Ma,” antwoord sy self. “Ek gaan moontlik saam op die volgende reis, wat April sal wees.” “Maar hulle blaas die kerke op in daardie land!”
Die kinders het heeltemal stil geword en kyk met groot oë na hulle ouma. “Kan ons asseblief later hieroor praat?” vra Salomé beslis. “Gaan Mamma by ’n bom wees?” vra Alexander bang. Salomé kyk beskuldigend na haar ma. “Nee, my liefie. Ons grootmense praat sommer. Eet julle gou klaar en dan gaan speel julle.” Hulle eet in ’n gespanne stilte verder. Later help sy haar ma afdek. “Salomé,” begin haar ma weer. “Dink aan jou kinders.” Salomé se hande word stil. “Dink Ma daar is iemand wat meer aan my kinders dink as ek?” “Maar hoe kan jy dit dan oorweeg?” Onbegrip. “Want my kinders is in die Here se hande, nie in myne nie, Ma.” “Maar ek bedoel, wat as hulle jou doodmaak? Wie gaan dan jou kinders grootmaak?” “Ma, hulle kan my in Suid-Afrika ook doodmaak.” “Die risiko is nie so groot nie.” “In Gauteng? In Suid-Afrika? Wanneer laas het Ma die koerante gelees? Ek dink dit is amper gevaarliker hier as in die Midde-Ooste.” “Behalwe as jy ’n Christen is,” troef haar ma. “Dis waar,” gee Salomé toe. “En dis hoekom ek wil gaan. Ek wil dit verstaan. Met my hart verstaan, met my lyf verstaan. Ek wil verstaan sodat ek op die regte manier vir hulle kan bid.” Haar ma kyk haar verstom aan. “Ek ken jou nie meer nie,” sê sy hartseer. “Ja, dis die waarheid,” sê Salomé. “As ma net soms sal ophou aanval en probeer verstaan sodat ek my en my man nie die hele tyd moet verdedig nie, dan kan ma my dalk leer ken.”
“Ek probeer verstaan, Salomé, maar ek kry dit nie reg nie.” Haar ma gooi die vadoek neer en stap uit. Salomé sit met haar hande in haar hare by die tafel. Hoekom doen sy dit aan haarself om elke keer weer te probeer verduidelik, weer te probeer verdedig? wonder sy suf.
Hulle is vroegoggend vroeg weer op pad. Dit is lank stil in die motor. “Het ek jou ooit vertel van daardie vrou wat ek in Egipte by die opleidingsentrum ontmoet het?” vra Petrus. “Haar naam klink amper soos Sally.” “Ja, ek onthou van die naam, maar wat was haar storie nou weer?” Sy luister stil terwyl hy vertel. “Toe ek gister gebel het, het sy geantwoord en my gesê haar man is nou by haar by die opleidingsentrum. Sy klink sommer soos ’n ander mens.” “Dis wonderlik.” “Ja. Ek het baie vir hulle gebid. Dit het my sommer versterk om te hoor ons gebede is verhoor, al is daar nou nuwe chaos daar.” “En haar naam is Sally?” “Saleh. Maar ons buitelanders sukkel mos met die Arabiese name, so almal sê sommer Sally. Dit het my natuurlik aan jou laat dink,” glimlag hy. “Hoe anders was ons omstandighede nie toe jy met Markus swanger was.” “Ja, almal was bly vir ons.” Dis ’n ruk stil. “Ek sal ook vir haar bid,” sê Salomé. Petrus kyk skeefweg na haar. “Ja, ons moet bid vir hulle beskerming en vir dié van die baba.”
“Is hulle dan nie veilig by die opleidingsentrum nie?” “Net tot die skoonfamilie uitvind waar hulle is. As hulle fanatiese Moslems is, sal hulle aanhou soek tot hulle haar en die baba vind, en dan kan hulle die baba wettig by hulle wegneem omdat hulle nie meer die Moslem-geloof aanhang nie.” Die radionuus onderbreek hulle gesprek. Petrus draai die radio harder. “En hier volg internasionale nuus. Oproer het uitgebreek in Aleksandrië, Egipte, ná ’n selfmoordbomaanval wat gister drie en twintig mense gedood en nagenoeg sewe en negentig mense beseer het. Koptiese gelowiges het buite die kerk begin protesteer. Volgens ons korrespondent in die Midde-Ooste word die polisie en ’n nabygeleë moskee met klippe bestook. Daar is ook motors aan die brand gesteek. Die polisie het traangas gebruik om die skare uitmekaar te jaag.” Petrus draai die radio weer sagter. “Dit klink nie soos die lam-ter-slagting-Christene wat ek gedink het hulle is nie?” “Hulle is kwaad, Sally. Hulle het nou genoeg gehad van jare en jare se onderdrukking. Hierdie bom was die laaste strooi.” “Hoekom doen die selfmoordbommers dit? Dis aaklig en grillerig.” “Onthou, vir ons wat ’n geloof het wat op genade gebou is en nie op goeie werke nie, is die selfmoordaanvalle belaglik, ja. Maar hulle het nie ons versekering nie, hulle het op geen ander manier die waarborg dat hulle goed genoeg is om paradys toe te gaan nie. Dit is boonop die hoogste eer wat ’n ma te beurt kan val dat haar seun dapper genoeg was om sy lewe vir Allah neer te lê in die jihad, die heilige oorlog. Onthou verder dat hulle kultuur op eer en skaamte gebou is en dan kan ’n mens begin verstaan dat ’n man sy lewe vir sy geloof sal opoffer.” “Dis verskriklik.” Petrus knik sy kop hartseer. “Ja, dit is ’n leuen van Satan, wat gekom het om te moor en te steel.” “Ja, hy moor die Christene én die Moslems. Niemand wen nie.” Dit is ’n nuwe gewaarwording vir Salomé. Sy het altyd gedink dis die Moslems se skuld. Nou
sien sy wie sit regtig daaragter. Salomé het skielik meer deernis vir die mense vir wie Petrus so lief geword het. “Ek dink ek begin verstaan.” Petrus glimlag skeef. “Dit het jou ’n rukkie gevat,” spot hy liggies. “Ja.” Sy kan nie anders as om saam te stem nie. “Ek weet ons stry nou reeds die stryd met jou ouers, maar het jy al finaal besluit of jy wil saamkom na Egipte?” Sy is bly daar speel musiek oor die motorradio, anders het die kinders die hele gesprek gehoor. “Ek is bang, Petrus.” Hy knik. “Ek het met hierdie bom seker vir die eerste keer besef hoe gevaarlik dit regtig is. Ek het al so gewoond geraak aan jou wat elke keer weggaan en veilig terugkom dat ek dit al as vanselfsprekend aanvaar.” “Ja, ’n mens raak meer op jou gemak met die idee.” “Ek weet ook nie hoe ek dit sal volhou as ek elke keer in vrees en bewing moet leef oor of jy lewend gaan terugkom nie.” “Nee, dit sal ook nie werk nie.” “Maar ek moet sê, hoewel ek verstaan dat jy by jou mense aan daardie kant wil kom, draai my maag as ek dink dat jy nou Egipte toe wil gaan.” “Dis nie my mense nie, Sally. Julle is my mense, jy en die kinders?” Hy kyk haar besorgd, vraend aan. “Ek hoor jou, Petrus, maar daardie mense is vir jou so belangrik dat jy ons hier los, daarheen gaan en die gevaar loop om nie terug te kom nie.” “Ja, dit is so, maar nie oor julle nie vir my belangrik is nie. Sally, ek wil hê jy moet nou mooi vir my luister, want ek is bang hierdie ding trek skeef in jou kop,” sê hy intens. “In my lewe probeer ek besluite neem wat God eerste stel.
Soms beteken dit dat ek na die kerk in die geslote lande moet gaan en soms beteken dit juis dat ek by die huis moet wees. Julle is nie vir my minder belangrik as hulle nie. Inteendeel. Dis telkens ’n stryd om julle hier te los en te gaan. Ek wens elke keer ek kon julle saamvat. Ek haat dit om te hoor hoe swaar jy en die kinders sonder my kry en ek wil ’n goeie en betrokke pa wees en vir jou ’n goeie en versorgende man. Daar is egter altyd hierdie stryd om by die Here te hoor wanneer dit tyd is om te bly en wanneer dit tyd is om te gaan. Dis God wat eerste kom in my lewe, Sally, nie sy kerk nie. Naas God is jy en die kinders my eerste liefde. Sal jy dit asseblief altyd onthou?” Hy klem haar hand vas. Sy kan nie anders as om te knik nie. Sy glo hom. “Goed. Nou sê weer vir my wat pla jou van die reis na Egipte?” “Dis vir my moeilik om dit te erken, maar ek is bang om die kinders alleen hier te los en dalk nie terug te kom nie. Ek wil hulle self grootmaak, Petrus.” “Ja. Ek verstaan.” Hy is ’n rukkie stil. “Jy moet by die Here hoor, Sally.” “Hy sê dit sal my lewe verander,” sê sy sag. “Dit sal. So wil jy hê jou lewe moet verander?” troef hy haar versigtig. Sy dink ’n rukkie na. “Ek dink so.” Dis ’n ruk stil. “Die ander ding wat my pla, is dat ek glad nie ’n hart vir daardie nasie het nie,” borrel dit uit. “Ek moet eerlik wees dat ek glad nie enige liefde vir hulle voel nie. Miskien is ek eerder kwaad oor alles wat hulle aan die Christene en die Jode gedoen het.” Petrus luister rustig. “Ja, ons het altyd op sendingweke en soortgelyke kerkdienste gehoor van jou ‘hart’ vir die een of ander nasie. As jy dan nie daardie ‘hart’ het nie, is ’n mens so verlig dat jy gelukkig vrygestel is van hierdie sendingroeping, nè?” Sy glimlag. “Volpunte.” “ ’n Vrou wat in China gaan sendingwerk doen het, het juis oor hierdie kwessie gepraat. Sy het vertel dat sy vir die Here gesê het sy sal in enige plek behalwe China vir die Here gaan werk. Sy het glad nie van die Chinese gehou nie. Op die ou end was sy net gehoorsaam. Sy het my geleer as jy blindweg gehoorsaam is,
gee die Here later vir jou die liefde ook. Sy kan nou nie uitgepraat raak oor die wonderlike Chinese nie.” “Ja, ons oordryf dit so ’n bietjie, hierdie warm gevoel om jou hart vir mense wat jy nog nooit ontmoet het nie,” erken Salomé. “Maar moenie ’n fout maak nie, daar is ook mense met wie die Here só werk. Juis daarom is blootstelling aan ’n land ook goed. Daar is mense wat so oorweldig word deur liefde vir ’n nasie wanneer hulle net eers in daardie land kom en die mense sien. Maar ons analitiese Westerlinge werk dikwels nie só nie. Ons moet maar net luister en gehoorsaam wees en die Here met die res vertrou.” “Maar ek weet nie presies wat die Here wil hê ek nou moet doen nie, anders sal ek gehoorsaam wees!” roep sy uit. “Hou net aan met Hom gesels daaroor. Hy sal jou lei.”
Hoofstuk 28
WOESTYN, EGIPTE. JANUARIE 2011
Dit voel vir Saleh of sy nooit weer haar rug sal kan roer nie. Sy sit ongemaklik in die hoek van die bank, Ashraf met sy kop op haar skoot, vas aan die slaap. Hulle het die hele dag die BBC-nuus oor die TV gevolg om te sien hoe die opstande in Aleksandrië ontwikkel. Die protes het die hele Sondag geduur. Koptiese Christene het deur die area beweeg en deurgaans uitgeroep: “Met siel en bloed sal ons die heilige kruis bevry” en “O, Mubarak, die Kopte se hart gloei.” Volgens die Koptiese aartsbiskop Arweis, blameer die sekuriteitsdienste ’n selfmoordbomaanvaller sodat hulle dit as ’n aanval deur een man kan afmaak. Die BBC se ontleder van Arabiese aangeleenthede, Magdi Abdelhadi, sê die bomaanval in Aleksandrië sal waarskynlik die gevoel onder Christene in die Midde-Ooste laat toeneem dat hulle as gemeenskap aangeval word. Hy sê die ontploffing is ’n reuseverleentheid vir die Egiptiese polisie wat, ten spyte van hulle drakoniese magte, by herhaling getoon het hulle is nie by magte om sulke geweld te voorkom en teen te werk nie. Niemand het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie. Daar is berig dat daar reeds sewentien mense in hegtenis geneem is. Vir ’n sogenaamde selfmoordbomaanval? Dit maak nie sin nie, dink Saleh. Die polisie tas maar in die donker rond noudat die internasionale media die storie opgepik het en ook vir antwoorde wag. Die polisie en regering gee Al Kaïda in Iran die skuld, maar ander bronne meen dis ’n plaaslike groep Islamiete wat geïnspireer word deur Al Kaïda. Van oor die wêreld stroom daar boodskappe in na Egipte dat hierdie daad van terrorisme verdoem word, selfs van pous Benedictus, Barack Obama en ander wêreldleiers. Egipte se Christene het uiteindelik die aandag van die wêreld gekry, juig Saleh se hart. Hulle sal tog die regering kan forseer om sy inwoners
ware vryheid van godsdiens te gee? Sy kan dit nie langer uithou om so te sit nie en skuif Ashraf se kop van haar skoot af. Hy is nog vas aan die slaap en sy probeer sywaarts uit die bank regop kom. Sy nek buig ongemaklik, maar hy bly vas aan die slaap terwyl sy in ’n desperate poging haar groot buik probeer uitwurm. Op die ou end sak sy handeviervoet op die grond neer. Drie weke, net drie weke, dan is die baba hier. Elke keer wat sy daaraan dink, voel sy paniekerig. Sy staan moeisaam op en probeer haar rug strek. Die gesprek tussen haar en Ashraf het haar bang gemaak. “Saleh, as ons hierdie kind wil registreer, gaan die owerhede hom as ’n Moslem registreer omdat dit so op ons registrasiesertifikate staan. Dan het my ouers steeds reg op hierdie kind en sal ons hom vir altyd moet wegsteek.” “Ek weet, Ashraf, maar watse keuse het ons?” “Ek wil my geloof amptelik op my sertifikate laat verander na ‘Christen’. En ek wil nie hê daar moet staan ‘eks-Moslem’ soos hulle dit aanpas nie. Ek wil ’n volwaardige gelowige kan wees.” “Is jy mal!” het sy uitgeroep. “Jy weet ’n mens kan dit nie doen nie.” “Hoekom kan ’n Christen-gelowige wat na Islam verander sy geloof amptelik laat verander na Moslem, maar ons kan dit nie andersom doen nie?” “Want jy weet dis hoe dit werk in hierdie land.” “Maar dis verkeerd.” “Ek weet dit is verkeerd, maar dit is nietemin hoe dit werk.” Hy was so gefrustreerd. “Hoe kan ek my seun as ’n Moslem-gelowige registreer as dit een groot leuen is en boonop sy lewe in gevaar stel?” “Dink jy sy lewe is minder in gevaar as ons hom as ’n Christen registreer?” was haar teenvraag. “Miskien.”
“Hoe bedoel jy, Ashraf?” “Ek dink aan Hassan-hulle se situasie. Kom ons sê ons wil ons en ook ons kind as Christen laat registreer, maar ons kan nie. Nee, luister eers,” het hy gekeer toe sy iets wou sê. “As ons dit probeer doen en dit na die hoogste hof neem wat dit teenstaan, dan kan ons mos koerante toe gaan. Dan lê ons sekuriteit daarin dat die media wêreldwyd die storie sal optel en begin vrae vra oor die sogenaamde godsdiensvryheid in Egipte. Niemand kan dan meer ons kind by ons kan wegvat omdat ons nie meer Moslem-gelowiges is nie. Die hele wêreld sal daarvan weet as hulle dit probeer doen. Ek dink dis die veiligste opsie.” “Ek dink nie die wêreld gee genoeg om om oor ’n paar verdwaalde skapies in Egipte ’n nuusberig te skryf nie. Ek dink jy soek vir verskriklike moeilikheid.” “Maar dink daaroor, Saleh.” “Ek dink daaroor en dan word ek sommer briesend kwaad vir jou.” Maande se opgekropte frustrasie het oorgeborrel. “Jy is nou net terug uit die dood, so te sê. Hier kan ons onopsigtelik ’n lewe lei en bymekaar wees. Maar nou soek jy publisiteit. Het enige MBB in hierdie land al ooit iets bereik deur hulle nuwe geloofstatus bekend te maak?” “Saleh …” “Nee! Jy weet nie deur watter hel ek die afgelope maande is nie. Jy weet nie hoe dit was om nie te weet of jy lewe en of ek my kind alleen gaan grootmaak nie en nou wil jy dit alles weer op die spel plaas.” Sy het geskrik vir haarself. Só het sy nog nooit met haar man gepraat nie. Die ou Ashraf, van voor hulle bekering, sou haar kon klap en niemand sou eers skeef opkyk nie. Ashraf was baie stil. “Ek weet hoe dit was, Saleh. Ek was net so bekommerd oor jou en ons kind se veiligheid. Ek was net so onseker of jy oorleef het; dit het my amper mal gemaak, verstaan jy nie?” “Nou hoekom wil jy dit weer waag?” het sy sagter gevra. “Omdat ek nie dink ’n mens kan lewenslank wegkruip nie!” het hy uitgeroep. “Ons het niks en ek kan nie sien hoe ek weer vir ons ’n lewe kan maak ‘daar buite’ nie. Ons is totaal afhanklik van die goedheid van mense wat ons ingeneem het en ons doen kantoorwerk vir ons verblyf. Ek weet nie of ek kans sien vir so ’n lewe nie, Saleh.”
Sy was stil. Die trane het oor haar wange geloop. “Dan moet ons dit miskien oorweeg om landuit te vlug.” “Waarheen?” het hy hande in die hare gevra. “Hoe kom ons hier uit? Jy weet ons sal voorgekeer word by die lughawe. Ons is sekerlik aangegee by die veiligheidspolisie.” “Ek weet. Ek het al honderd maal in sirkels gedink,” het sy stil geantwoord. “Hier is so baie ander soos ons, Saleh. So baie ander wat ook smag na hulle geloofsvryheid in ’n land waar dit sogenaamd ‘moontlik’ is. Kom ons doen dit vir almal van ons.” “Dis nie realisties nie, Ashraf. Ek sien nie kans vir die prys wat ons daarvoor sal moet betaal nie,” het sy bly pleit. “Ek weet, maar ek sien ook nie kans om die dag te beleef wat ons familie ons opspoor en aanspraak maak op ons kind nie.” “Ek ook nie,” het Saleh geknik. “Maar of jou kind nou ’n Moslem, of ’n eksMoslem, of selfs ’n Christen op papier is, daardie risiko bestaan. Niks op papier gaan dit verander nie.” Hulle het gaan slaap met meer vrae as antwoorde. Sedertdien het hulle nie weer daaroor gepraat nie, maar die saak broei tussen hulle. Hoe gaan hulle maak met hierdie baba in hierdie land, met sy familie so ver, maar tog so naby? Watse tipe lewe is dit vir ’n kind om knaend te moet wegkruip? Sy wens Hassan en Nahed wil terugkom dat hulle die saak met hulle kan bespreek. Hulle het soveel wysheid. Sy neem aan hulle gaan nog ’n ruk weg wees. Die aktiviste het die Kopte gevra om uit protes drie dae van die werk af weg te bly. Hulle het ook 7 Januarie, wanneer hulle Kersfees vier, as ’n roudag verklaar. Hoe gruwelik hierdie dade ook al was, wonder Saleh wie van die Kopte die moed sal hê om vir drie dae nie werk toe te gaan nie, veral as hulle vir Moslems werk. Dit sal net moeilikheid soek wees. Maar as die situasie omgekeerd was? Ten minste was daar by alle skole en universiteite ’n oomblik van stilte vir die noodlottig gewondes. Ten minste. Hulle bly in ’n deurmekaar land.
Op BBC word ’n onderhoud met ’n voormalige adjunkminister vertoon. Sy sak weer op die punt van die rusbank neer om te kyk. Die oorsaak dat baie jong mense uit Egipte vlug om eerder aan die Mediterreense kus te sterf, sê hy, is dat hier nie werksgeleenthede vir hulle is nie. Mossad het hierdie stand van sake uitgebuit. Dit is weliswaar Egiptenare wat die bomaanval uitgevoer het, maar Mossad het hulle uitgebuit. Toe die Israeliese intelligensiehoof ’n verslag oor die laaste vier en halwe jaar ingedien het, het hy dit duidelik gestel dat Israel van die vredesooreenkoms gebruik maak om Egipte te infiltreer. Natuurlik sal Israel se geheime diens weer die skuld kry, dink Saleh wrang. Enigiets wat verkeerd loop in Egipte, is altyd die Jode se skuld.
Die volgende paar dae trek omtrent almal wat by die opleidingsentrum is voor die TV in Hassan en Nahed se woonstel in. Hulle volg die gebeure soos ’n sepie wat ontvou. Die bomslagoffers se begrafnis is in die Koptiese Sint Mina-kerk, ongeveer dertig kilometer buite Aleksandrië gehou. Tussen vyf duisend en tien duisend mense het die begrafnis bygewoon. Toe biskop Youanis president Mubarak probeer bedank vir die meegevoel wat hy uitgespreek het teenoor die slagoffers se familie, het die skare “Nee! Nee! Nee!” begin skreeu om dit summier te verwerp. Hierdie uitgesproke, woedende skare Kopte is ’n waterskeiding, dink Saleh. Wie is hierdie dapper protesteerders? Is dit dieselfde sagmoedige, onderdrukte Christene wat nog ’n week gelede in gedienstige stilte in hierdie land gewoon het? Hulle is vir haar onherkenbaar – hoewel bekend – met hulle Egiptiese vurigheid. Dit voel of ’n rewolusie ook in haar hart ontbrand. Nuus uit Tunisië is dat Mohamed Bouazizi op 4 Januarie 2011 oorlede is. Hy het beswyk aan die brandwonde wat hy homself toegedien het nadat hy deur ’n vroulike regeringsamptenaar verneder is. Derduisende woedende Tunisiërs word ook gebeeldsend terwyl hulle in die strate protesteer teen die huidige regering van president Zine El Abidine Ben Ali. Hulle het genoeg gehad van armoede, werkloosheid, gebrek aan vryheid van spraak en politieke vryheid. Weg met outokrasie! Daarna word berig oor ’n nuwe bravade wat landswyd losbreek. In Kaïro
protesteer ongeveer vier duisend Christene en Moslems teen die terrorisme in die hoofsaaklik Christen-woonbuurt Shubra. Die protes het vir ses uur geduur en selfs van die regeringsamptenare en lede van die opposisie van die Egiptiese regering het daarby aangesluit. In dieselfde woonbuurt het duisende mense van die Koptiese Kerk vir drie dae met die onlustepolisie kragte gemeet. Daar was heelwat beserings onder die polisie sowel as die Koptiese burgerlikes. Duisende Kopte het ook by die kerk van Sint Simon die Leerlooier bymekaargekom. Hulle het aangedring op die ontslag van die plaaslike regering. Ook hierdie skare dreunsing: “Met siel en bloed sal ons die heilige kruis bevry!” Hulle het met die Egiptiese sekuriteitsdienste swaarde gekruis en twaalf van die Koptiese protesteerders is beseer. Daar is ook vir twee agtereenvolgende dae buite die Egiptiese ministerie van buitelandse sake en die staat se televisiegeboue geprotesteer. Die wêreld móét nou van ons weet, is die lied in die klein groepie gelowiges se harte wat voor die TV saamdrom. Hulle is opgewonde. Iets sal nou sekerlik verander. In die daaropvolgende dae ontleed die TV-nuusspan die gebeure. Dit blyk dat daar in die maande voor die insident by die kerk in Aleksandrië aangevoer is dat die Kopties Ortodokse kerke wapens in hulle kerke en kloosters versteek. In November verlede jaar het Al Kaïda in Irak aangekondig dat alle Christene in die Midde-Ooste “regverdige teikens” is. Twee weke voor die aanval in Aleksandrië het ’n Islamitiese webtuiste ’n oproep gedoen dat aanvalle geloods moet word op ’n lys kerke, waaronder ook dié kerk. Wêreldwyd het vrees skielik posgevat dat geweld teenoor Christene sal toeneem deur die Moslem-gelowiges wat in jihad glo. In Europa het Koptiese Kerke dreigemente ontvang dat hulle ook aangeval sal word. Biskoppe in Frankryk en Duitsland het vir regeringsbeskerming gevra. Ook in Brittanje en Kanada is die Koptiese Kerke gedreig. Kort daarna is daar ook ’n “doodslys” op ’n Al Kaïda-geaffilieerde webwerf ontdek. Dit was van twee honderd Kopte in Kanada en Oostenryk wat klaarblyklik Islam ondermyn en Moslems na Christenskap wil oorhaal. Daar is
versoek dat die mense op die lys vermoor word weens hierdie sogenaamde wandaad. Die wêreld hou asem op … Die groepie Christene in die woestyn se hart word warm by die gedagte dat die res van die wêreld van hulle kennis neem en selfs saam ly. Die isolasie is verby. Hulle is nou waarlik een liggaam wat oor die hele wêreld versprei is. Die leiers van die Koptiese Kerke kondig gedurende die week aan dat hoewel daar nie feesvieringe vir die komende Oosterse Kersdag sal wees nie, daar wel gebedsdienste sal wees. Op 6 Januarie 2011, Oukersaand op die Oosterse kalender, gebeur daar ’n merkwaardige ding. Egiptiese Moslems, op aandrang van die MoslemBroederskap, daag oral by Koptiese Kerke op om as ’n “menslike skild” teen enige ander moontlike aanvalle te dien. Hulle maak ’n kring om Koptiese Kerke sodat hulle landgenote in vrede kan vier dat hulle Verlosser aarde toe gekom het. Die groepie betraande Christene kyk met dankbaarheid hierna.
Hoofstuk 29
PRETORIA. JANUARIE 2011
Salomé rol rond. Môre moet sy by die skool wees. ’n Nuwe jaar, ’n nuwe begin. Anders as ander jare sien sy nie uit daarna nie. Dirk sal daar wees. Die afgelope week het geen geleentheid gebied om met Petrus te praat nie. Sy kop was pal in die Midde-Ooste, besig om wêreldgebeure te volg en te interpreteer, en sy gebedsgroep se reis na Egipte te finaliseer. Sy was weer besig om skryfbehoeftes en skoolklere gereed te kry en boonop kop te krap oor hoe om hulle begroting in die nuwe jaar te laat klop. Petrus het aan die einde van laas jaar met die nuus gekom dat daar geen verhoging sal wees nie. Die instansie kry finansieel te swaar. Toe het al die werknemers saam besluit om liewer nie ’n verhoging te neem nie, in plaas daarvan dat mense afgedank moet word. Dit voel alewig of die uitgawes meer en die inkomste minder word. Om eerlik te wees, haar emosionele uitgawes was ook die laaste paar maande meer as haar inkomste. Sy voel weerloos, selfs bang om môre skool toe te gaan. Sy moes met Petrus gepraat het. Nou lê hy egter vas aan die slaap langs haar, totaal onbewus van die stryd in haar hart. Sy staan moeg op en maak saggies klaar. Die kinders kan vir oulaas ’n bietjie laat slaap voor hulle Woensdag ook moet terug hok toe. Petrus sal help pap voer en van die huis af werk om die volgende twee dae by die kinders te wees.
Haar hart klop in haar keel toe sy haar motor op die gewone plek parkeer. Dirk se motor is reeds hier, Lilly s’n nog nie. Sy wag in haar motor tot sy Lilly se vrolike lemmetjiegroen motortjie deur die hekke sien ry en klim uit asof sy pas aangekom het. Kinderagtig, sy weet, maar
sy sien nie kans om alleen in Dirk vas te loop nie. “Hallo, vreemdeling!” roep Lilly van ver af, ’n wanordelike prentjie van woeste hare en ’n onvoorstelbare bont uitrusting, twee mandjies aan een arm en ’n verfblik in die ander. Onwillekeurig prik trane agter Salomé se oë toe sy haar vriendin ’n drukkie gee. As Lilly maar net weet hoe sy vanoggend op haar teenwoordigheid staatmaak: haar menslike skild teen die wêreld. “Ag nee, maggies. Moet nou nie staan en grens nie,” raas Lilly gemaak kwaai. “Hoe het ek dit dan met jou?” Salomé lag dit af en tel een van Lilly se mandjies op. “Wat op aarde het jy alles saamgebring? Jy lyk soos ’n smous op reis.” “O, alles wat ek laas jaar gemis het! Ek het ’n lys gemaak en alles die vakansie bymekaargekry. ’n Mens kan nie met so ’n kaal, koue, kliniese omgewing kreatief werk nie. My klas kort dringend karakter.” “En die verf?” “Ek gaan my klas vandag uitverf. Ek sal netnou die rollers en my verfpak uit die kar kom haal. Ek kan nie wag om te begin nie.” “Het jy toestemming by die hoof gekry?” vra Salomé verras. “Ek het geleer ’n mens vermag baie meer in die lewe as jy eerder verskoning vra as toestemming kry,” lag sy vrolik. “Wat kan hulle aan my doen as dit ’n gedane saak is? Hulle gaan dit sekerlik nie weer oorverf nie.” “Lilly …” begin Salomé bekommerd. “Chill, suster. As jy vir niemand sê nie, sal ek ook nie,” lag sy dit af. “Watter kleur?” gee Salomé moed op. “Kleure,” korrigeer Lilly. “Kleure dan?” vra Salomé bekommerd.
“Oranje en pers,” antwoord Lilly. “Ek kan nie wag nie.” “Jy maak my soms bang, Lilly. Nou wonder ek skielik hoekom ek so baie na jou verlang het,” sê Salomé. “Ja, jy beter bang wees, want as iemand gaan kla, gaan ek sê jy was ’n medepligtige. Maar as ek wegkom daarmee, verf ons volgende vakansie jou klas,” lag sy vrolik en kry haar ander mandjies bymekaar.
Alles verloop gelukkig seepglad met Lilly aan haar sy. In die personeelkamer vermy sy enige ongemak deur net in Lilly se omtrek te wees. Hulle gesels saamsaam met hulle kollegas en hoor hoe almal se vakansie verloop het. Die vrolike gees is eie aan die atmosfeer wat ná ’n vakansie heers. Onderwyseresse se hare is gesny en sommige s’n gekleur, die mans bruingebrand en uitgelate. Net Dirk hou hom eenkant. Salomé slaak ’n sug van verligting toe sy in die veiligheid van haar klaskamer is en haar nuwe klaslys en die jaar se rooster bekyk. Sy ken slegs enkele van die kinders, maar herken ’n paar van die vanne; boeties en sussies wat al deur haar hande is. Daar is minimale veranderinge aan die rooster. Gelukkig is haar voorbereiding maklik, want alles is presies geliasseer soos sy dit in vorige jare aangebied het. Die ligte klop aan die deur laat haar skrik. Dirk staan in die deur. “Hallo, Salomé.” Ongemaklik. “Môre, Dirk,” groet sy styf. Hy stap ongenooid binne. Sy bly agter haar lessenaar sit en kyk hom vraend aan. “Jy vermy my,” sê hy reguit. “Wat verwag jy? Ná wat laas jaar gebeur …” “Ja, ek is jammer daaroor,” val hy haar in die rede. Sy weet nie hoe om te antwoord nie.
“Ek sou nie graag wil hê dat daardie insident ons vriendskap bederf nie,” probeer hy boetvaardig. Sy knik en oorweeg sy woorde. “Ek het jou gemis die vakansie.” Die ongemak kom sit onmiddellik weer in haar maag. Sy staan op. “Dirk, dankie vir jou verskoning, ek waardeer dit. Ek twyfel egter of ons vriendskap ooit weer dieselfde kan wees.” Hy kyk haar net stil aan. “Ek wil nie kwaaivriende wees of ongemak by die werk hê nie. Ek sal dus bly wees as ons kan vrede maak.” Hy knik stadig. “Goed. Vrede?” Sy steek haar hand uit om syne te skud. “Vriende kan mekaar sekerlik ’n drukkie gee.” Hy trek haar aan haar hand nader en druk haar teen hom aan. Sy staan stokstyf en ongemaklik. Oor Dirk se skouer sien sy hoe kollega Gerda Genis verbystap en haar wenkbroue optrek. Salomé tree onmiddellik terug. Dit het nou heeltemal verkeerd gelyk, weet sy. Lank nadat Dirk uit is, sit sy blind voor haar en uitstaar. Lilly wapper in. “Kom kyk nou dadelik na my klas. Die nuwe kleure lyk so … En nou?” Salomé kyk stadig op na haar. “Jy sal nie glo wat nou gebeur het nie.” “Try me.” “Dirk was hier om vrede te maak.” “Oh no,” sê Lilly dramaties toe sy hoor wat verder gebeur het. “Gerda Gifappel?”
“Einste. ” “Jy kan maar bedank; jou doppie is geklink,” sê sy fatalisties. “Baie dankie. Dis presies wat ek wou hoor,” sê Salomé wrang. “Ek is jammer, maar ek sien nie hoe jy uit hierdie een gaan kom nie. Geen ander getuies nie, net jy, Dirk en Gerda. Jy kan maar weet die storie is laatoggend by die hoof en môre in die koerante.” Salomé wil huil. “Ek het niks gedoen nie, Lilly.” “Ek glo jou, maar ek is al een wat jou gaan glo. Ek kan die opskrif al sien: ‘Vakansieverlange dryf onderwysers in mekaar se arms.’ ” Salomé druk haar hande oor haar ore en uiteindelik maak dit Lilly stil. “Jammer, girlfriend, maar dit is ’n ding wat lelik kan word, veral ná die stories verlede jaar.” “Ek weet.”
Salomé dwaal ná skool in die winkels rond op soek na ’n verjaardaggeskenk vir haar sus se oudste seun, Wikus. Wat koop ’n mens vir iemand wat klaarblyklik alles het? Die skrik maal buitendien nog in haar kop; sy kan glad nie reguit dink nie. Wat gaan Gerda doen? Sal sy iets sê? Sy kan nie glo sy het in ’n situasie beland wat haar reputasie op die spel plaas nie. Sy moet haar regruk, anders gaan Petrus agterkom iets is fout en hoe begin sy dan verduidelik? Gelukkig is hy so besig met reëlings vir sy reis na Egipte dat hy dit dalk nie sal agterkom nie. Die Midde-Ooste se gesig begin verander en hy bestee al sy tyd om elke nuwe plooi en lyntjie op hierdie gesig te bestudeer. ’n Paar ekstra kommerplooie op sy vrou se gesig sal hom seker nie opval nie, hoop Salomé.
Vroegoggend gaan die interkom aan. “Mevrou Pretorius, sal u asseblief na my
kantoor toe kom?” Die hoof se stem. Sy wens sy kan vir Lilly saamvat as haar buffer, dink sy terwyl sy met lam bene en ’n maag wat draai kantoor toe stap. Die hoof is ongemaklik in sy stoel, kan Salomé sien. “Kom binne, Mevrou.” Verbeel sy haar of is daar ’n klem op die “Mevrou”? Hy maak keel skoon toe sy sit. Haar hande sweet en sy is seker sy bloos reeds. “Mevrou Pretorius,” begin hy. “Daar was ’n klagte dat jy en … wel ’n manspersoneellid ’n verhouding het.” Wanneer die bodem uitval, is die vryval verskriklik, dink Salomé. Dit voel of ’n bom in haar kop ontplof, maar niks kom by haar mond uit nie. “Ontken u nie die aantyging nie?” vra die hoof verras. Uiteindelik kry sy haar stem terug. “Ek ontken dit ten sterkste.” Maar haar stem is so pieperig dat sy haarself nie sou glo nie. “Kan u enige lig werp op die feit dat daar sulke aantygings is?” vra hy, nie aanvallend nie. “Ja, ek kan.” Sy probeer haar stem normaal hou, maar sy wil summier in trane uitbars. “Kan ek miskien net vra of u reeds met die betrokke manspersoneellid gepraat het?” “Nee, nog nie,” antwoord hy. “Ek wou u eers die geleentheid gee om te verduidelik. Mevrou Pretorius … Salomé,” vervolg hy sagter, “jy was nog altyd net ’n voorbeeld van deugde en ek het nog nooit enige rede gehad om so ’n vals noot by jou te vermoed nie. Ek wou net eers seker maak daar is nie ’n misverstand nie.” Sy gaan nou wraggies in die hoof se kantoor grens, dink sy verstom. Haar onderlip bewe en die trane wel op. “Dankie, Meneer.” Sy kan haar stem nie vertrou nie. “Ek kan u verseker dit is nie die waarheid nie en beslis ’n misverstand.” Die hoof knik. “Nou waar kom die storie dan vandaan?”
“Vra asseblief vir Dirk, miskien kan hy verduidelik.” Sy is nou kwaad. “Goed. Ek sal so maak en na jou toe terugkom,” sê hy saaklik. Sy verskoon haar en stap reguit na die dameskleedkamer. Sy maak die deur van die hokkie vinnig agter haar toe en word naar in die toilet. Hoe op aarde het sy haarself in so ’n gemors gekry?
Die hoof het klaarblyklik vir Dirk ingeroep en hy het ongemaklik ’n paar vrae geantwoord. Hy het die hoof ook verseker dat daar geen redes vir die aantygings is nie. Die hoof het haar weer ingeroep en gesê dat op grond van haar goeie reputasie en integriteit daar nie verder daarvan gewag gemaak sal word nie. Hy het wel gewaarsku dat indien so ’n gerug weer die rondte doen, daar ’n dissiplinêre verhoor sou volg. Salomé kan skaars haar woede jeens Gerda verbloem. Sy vermy haar heeltemal omdat sy weet dat enige aanmerking van haar kant slegs vet op die vuur sal wees. Lilly is voorvegter; sy wil vir Gerda in die personeelkamer voor al die ander onderwysers aanvat of gif in haar koffie gooi, wat Salomé ook al verkies … Sy het nie vir enige van bogenoemde toestemming gegee nie, hoewel sy eintlik sou wou. Lilly het toe vir Gerda sommer een oggend in die kleedkamer trompop geloop en haar koelbloedig haar fortuin vertel. Dit was amper soos ’n outydse skoolgeveg in die badkamers, het sy kom vertel. Salomé het amper geglimlag. Toe Salomé seker was dat die storm gaan lê het en sy al amper weer snags kan slaap, breek Wikus se verjaardagpartytjie aan. O, hoe haat Salomé nie hierdie gedoentes by Thea nie! Die aansitterige gaste in hulle deftige sekuriteitskompleks gee Salomé altyd ’n pyn. Sy is nooit reg aangetrek nie, haar hare nie volgens die mees onlangse mode gesny nie. Maar dit is hulle nefie se verjaardag en boonop is sy tog Thea se suster. Sy is weer pynlik bewus van haar voorkoms toe hulle deur die massiewe voordeur van die ontwerpershuis stap. Die kinders hol dadelik na die maats en partytjiebedrywighede. Sy word alleen gelaat om haarself te verdedig. Sy stap na haar modeboeksus met haar ontwerpersklere toe.
Thea groet haar met ’n druk en sleep haar amper ’n bietjie oordrewe nader om haar vriendinne te ontmoet. “My sussie, die een wat met die sendeling getroud is,” asof dit haar voorkoms sal verduidelik. “En dit is al die girls,” wys sy na haar vriendinne. “Amazing. Hi!” koer een. Salomé glimlag plat terug. Sy wens sy het nie gekom nie. “En wat doen jy?” vra een van die ander “girls” toe daar ’n ongemaklike stilte is. Salomé sê by watter skool sy onderwys gee. “Ja,” antwoord ’n ander vrou, “ek het juis hierdie week ’n storie gehoor van ’n affair tussen twee onderwysers by daardie skool; die musiekonderwyseres en die een of ander onderwyser. Sy is blykbaar nou swanger met sy kind. Een van die onderwyseresse het haar hoor naar word in die badkamer. Weet jy daarvan?” Haar sus se oë vernou en sy kyk haar geskok aan. Alle oë is op haar. Katglimlagte. “Nee,” antwoord sy flou. “Ek weet nie.” Teleurstelling op die eerste kat se gesig dat die storie nie ingekleur gaan word nie. ’n Oomblik is daar ’n ongemaklike stilte, maar toe hervat hulle die sinnelose gebabbel. Net Thea en Salomé is stil en neem nie aan die gesprek deel nie. Later verskoon Salomé haar en gaan bring in die badkamer op. As iemand haar nou hoor, sal die storie seker loop dat sy ’n tweeling verwag, dink sy wrang.
Die telefoon lui later die aand. Thea. Sy is amper histeries oor haar reputasie as die skinderstorie sal uitkom. Salomé sit net lam van skok en luister terwyl Thea voorttier. Petrus stap in, staan skewekop teen die muur tot sy uiteindelik kan aflui. “Sally, wat is aan die gang?”
Hoofstuk 30
WOESTYN, EGIPTE. JANUARIE 2011
Hassan en Nahed word soos helde terugverwelkom en almal brand om eerstehands te hoor wat hulle vertel. Hartseer verhale van vriende wat hulle in Aleksandrië gaan bemoedig het. Gaandeweg word hulle woonstel en TV darem weer hulle eie soos almal maar weer terugval in hulle dagtaak en roetine. Die nuwe jaar het letterlik met ’n bom begin. Nou begin dit lyk asof die stof ’n bietjie gaan lê het. Daar is egter ’n onrustigheid, ’n skommeling onder die oppervlak waarvan Saleh terdeë bewus is. Dis soos ’n vulkaan wat wag om uit te bars. Sy voel dit aan in die Braxton Hicks-kontraksies wat sy al hoe gereelder kry en wat Ashraf senuweeagtig na haar laat kyk wanneer sy hom daarvan sê. En die woelinge is voelbaar tussen die mense in die opleidingsentrum wat maar net nie met hulle gewone fokus gewerk kan kry nie. Dit is in die diep keep tussen Hassan se wenkbroue wanneer hy en Nahed in gedempte stemme praat. Dit is in die lug. Agt en twintig dae nadat die opstande begin het, op 14 Januarie 2011, bedank president Zine El Abidine Ben Ali van Tunisië en vlug na Saoedi-Arabië. Hy het drie en twintig jaar regeer. Foto’s van jong mense in Tunisië wat motors aan die brand steek en in gevegte met die polisie betrokke raak, versprei soos ’n veldbrand op die sosiale media. Kyk wat doen die jong mense van ons buurland! Kyk hulle dapperheid! Haar tyd kom nader. Sy is chronies ongemaklik; sy kan nie lank sit of lê of staan nie. Senuweeagtig skarrel sy om die paar goedjies wat sy het gereed te kry vir
die baba se koms. Hoe gaan dit afloop, hier in die opleidingsentrum? Sal Nahed haar regtig goed kan bystaan? Wat as daar ’n noodgeval is en die baba steek vas? Dan verdiep sy haar weer in die Skrif. Put haar krag uit die Woord. Stel haar geloof in God. Hy sal haar nie begewe of verlaat nie. Ashraf word by die dag beter. Hy beweeg al hoe meer rond en sy eetlus raak ook groter. Hy is nog nie naastenby die man wat hy was nie, maar daar is kleur in sy wange en ’n onrustigheid; hy wil iets sinvols doen. Stuk-stuk begin hy van Saleh se kantoorwerk oorneem terwyl hy nog te swak is om fisieke werk te doen. Dit help ook teen sy frustrasie en gevoel van hulpeloosheid. Hy en Hassan, en soms ook die jong Butros, voer lang gesprekke en debatte in die kantoor. Hulle lees en kyk saam na die TV-nuus en ook op die internet en sosiale media na wêreldgebeure. Onderlangs, maar baie definitief, kom ’n nuwe ontwaking. Die begin van ’n nuwe era. ’n Geboorte. “Ek dink ons moet ons met water laat doop, Saleh,” sê Ashraf uit die bloute. Die skrik kom sit oorweldigend in Saleh. Elke Moslem-gelowige weet wanneer dié wat die geloof van Islam verlaat na die Christendom toe oorgaan en gedoop word, is dit verby. Dit is die onmiskenbare teken dat jy die Islam-geloof finaal verlaat het: ’n finale teken van jou afvalligheid, dat jy nie gaan terugkeer nie. Daar sal geen genade meer van enige familielid wees nie. Jy kyk die dood direk in die oë as hulle jou in die hande kry. “Is dit regtig nodig?” vra sy sag, doodbang. Ashraf kom sit langs haar en vat haar hand. “Ek en Hassan het lang gesprekke gehad, Saleh,” begin hy sag dog met oortuiging. “Ek glo dit is die volgende stap vir ons. Ek glo as ons wil groei in Christus en in sy krag beweeg, moet ons gehoorsaam wees aan sy bevele. Dit was sy opdrag in die Woord dat sy volgelinge hulle moet laat doop. Hoekom sou ons daaraan ongehoorsaam wees?” “Omdat jy en ek albei weet wat dit beteken. Daarna is daar geen genade nie!” roep sy uit. “Ja, dis miskien waar. Maar ons lewe is nie in ons hande nie. Ons het gekies om ons lewe oor te gee aan Hom, aan Isa, aan die Messias.”
Saleh knik. “Dis waar, Ashraf. Maar ek is bang. Dit is nie nou meer net jou en my lewe nie, dis ons baba s’n ook. Ons moet aan hom dink.” “Ek weet, Saleh. Ek dink juis aan hom. Ek wil vir hom die beste pa wees wat ek kan wees, nie ’n lafaard nie.” “Hoe werk dit? Hoe doen hulle dit?” “Dit is werklik ’n eenvoudige daad. Jy word onder die water gedompel en gedoop, in die Naam van die Vader en die Seun en die Gees. Dit is ’n openbare belydenis. Hassan-hulle sal dit vir ons reël. Hulle het ’n opblaasswembad wat oorsese gaste eenmaal gebring het, of anders sommer onder ’n stort.” Saleh knik. “Kan ons wag tot ná die geboorte?” Ashraf huiwer ’n oomblik. “Goed, dit sal seker nie saak maak nie.”
Daardie nag toe sy weer in die middel van die nag wakker word om ’n draai te loop, sit Ashraf kiertsregop. “Wat is fout?” vra Saleh. “Ons kan nie wag nie, Saleh. Ons moet dit dringend doen. Die Gees druk my dit op die hart. Dit is asof ek nie rus vir my siel kan kry tot ons dit gedoen het nie. Daar is ’n dringendheid in my. Môre, ons moet dit môre doen en nie wag nie.” Later hoor sy hom dieper asemhaal. Sy lê wawyd wakker en staar na die plafon. Vader, ek is bang. Sy weet dit is die regte ding om te doen, maar jare se indoktrinasie teen hierdie stap maak haar eerlikwaar vreesbevange. Dit voel of hulle die hele Arabiese wêreld se aandag sal trek met hierdie een ding wat in die geheim gedoen word.
Vroegoggend is hulle op en aangetrek. Hulle klop so vroeg aan Hassan en Nahed se deur dat dié nog in hulle nagklere die deur oopmaak.
“En nou?” vra Nahed bekommerd en kyk dadelik na Saleh se buik. Almal is op bystand vir die geboorte. “Nee, dis nie die baba nie,” sê Ashraf. “Dis die doop.” “Kom binne,” nooi sy. Ashraf gaan sit nie eens nie. “Hassan, ons moet dit dadelik doen. Dis dringend.” Hassan bekyk hom rustig op en af. “Goed, habibi. Ons sal almal laat weet en dan reël ons die seremonie vir vanaand.” Ashraf knik dankbaar, maar Saleh weet hy is nog haastiger. Hulle stap weer terug na hulle woonstel en sy begin ontbyt maak. Ashraf skuifel op en af, neem toe die Injeel en maak die kamerdeur agter hom toe. Hy gaan bid, weet sy. Amper dadelik storm hy weer uit. “Kyk hier, Saleh. Ek glo nie ek is verkeerd nie. Ek het net verder gelees uit die gedeelte waarmee ek besig was, en dit is van ’n Ethiopiër wat vir Filippus gevra het om hom te laat doop nadat hy die evangelie gehoor het. Hy het dit dadelik gedoen. Ek dink regtig hierdie saak is dringend.” “Ons sal dit mos vanaand doen?” “Nee, ons moenie wag nie.” Saleh voel ’n bietjie simpel om weer na Hassan en Nahed se huis te skuifel met Ashraf wat haar dié keer amper sleepdra, so haastig is hy. Hassan maak oop met ’n erns op sy gesig. “Ons moet dit nou doen, nè?” “Ja!” antwoord Ashraf. “Ja, die Vader het dit pas in my gebede bevestig. Kom, ons kry almal bymekaar.” En so kom dit dat Saleh en Ashraf ’n halfuur later gedoop word. In Hassan en Nahed se beknopte badkamer word eers Ashraf onder die genade van warm water staangemaak. Hassan, wat self ook papnat word, doop hom met
hande vol stortwater in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Die trane en water stroom oor sy gesig terwyl almal hom toejuig. Toe is dit haar beurt. Skielik is dit asof ’n oorverdowende stilte oor haar toesak. Sy sien die mense se monde om haar beweeg, maar sy kan niks hoor nie. Dit is soos ’n stilte van diep onder die water. Haar bloed suis in haar ore en in haar gees buig sy diep voor die Almagtige God voor wie sy nou kom aanmeld. Hier is ek, Here, plaas u Naam, u seël op my, roep haar gees. Almal vervaag terwyl die water oor haar spoel. Sy hoor net die vaste en seker stem van Hassan. “Saleh Samir, ek doop jou in die Naam van God die Vader, Jesus Christus Sy seun en die Heilige Gees!” “Amen!” koor almal. Toe sy uitklim, is dit of sy terugkeer tot die hede. Hande klap en draai haar toe in ’n handdoek. Sy is sowaar gedoop. Dit is sowaar betekenisvol.
Haar kraampyne begin daardie middag diep en vaag. Toe al hoe sterker en sterker tot sy dit nie meer kan ontken nie: Haar water breek. Sy is in kraam. “Ashraf …” Hy gee haar een kyk en sukkel dadelik by die woonsteldeur uit. “Saleh is in kraam!” roep hy van bo af en sukkel haastig terug, verbouereerd. “Skuus, Saleh, ek weet nie of ek nou by jou moet bly of na Nahed toe moet gaan om haar te roep nie?” “Ek sal bly wees as ek weet Nahed is op pad,” antwoord sy verbasend kalm terwyl sy self ook die senuweeagtige klop van haar hart voel. “Goed,” en draai op sy hakke om. Maar terwyl hy uitloop, kom Amsah in, haar wange gloeiend van opwinding: “Nahed is op pad, Saleh. Kom, ons maak jou gemaklik.” Die kraamproses is lank, intens en uitmergelend. Tog voel Saleh deurlopend veilig in Nahed se bekwame hande. Later gee sy nie meer om wie hierdie baba
vang nie, hy moet net uit. Uiteindelik, in die vroeë oggendure, lê hulle haar pragtige babaseun in haar arms. Sy en Ashraf huil onbeskaamd terwyl hulle hulle baba nog onhandig vashou. Wat ’n wonderwerk! “Dankie, dankie,” prewel Ashraf oor en oor. Sy weet nie of dit vir haar is of ’n gebed nie. “Wat is sy naam?” vra Nahed, ooglopend moeg en tog steeds vriendelik. Saleh kyk na Ashraf. Dit is sy voorreg om sy seun te mag benoem. “Emmanuel,” sê hy trots. “God met ons,” knik Nahed. “Dis wel volksvreemd, maar dit gee ons die geleentheid om elke keer sy naam uit te lê. Ons glo dit sal ’n getuienis wees,” sê Ashraf trots. Nadat Saleh Emmanuel gevoed en ’n paar uur geslaap het, is daar ’n klop aan die deur. Ashraf loer om die hoek. “Is jy reg vir gaste?” vra hy besorg. “Wie is hier?” vra Saleh. Haar liggaam voel gekneus en seer. “Almal,” glimlag hy. Hy help haar opstaan en aantrek, en toe stap hulle uit met hulle babaseun. Hulle tref al die bekende gesigte in hulle klein sitkamer aan. Almal klap hande en wens hulle geluk en hulle word in die middel sitgemaak. Saleh kan die stapel geskenke wat voor haar staan skaars glo. Die een na die ander pakkie word aangegee; alles waaraan jy kan dink wat ’n baba nodig het. Sommige met die hand gemaak, ander gekoop. Die gedagte aan wat dit alles moes kos, druk haar keel toe en maak dat sy nie die trane kan keer nie. Sy kan die tasbare liefde van almal om haar skaars verwerk. Sy ken hierdie mense skaars. Hoe is dit moontlik dat hulle met soveel liefde kan gee en gee?
Daar word vir hulle en hulle baba gebid en Hassan roep sommer dadelik vir Ashraf om Emmanuel aan God toe te wy. Trane loop en almal juig oor die wonder van geboorte. Nou eers sien Saleh die borde eetgoed wat gereed staan in haar kombuis. Soos Egipte al deur die eeue bekend geword het vir sy kospotte, word daar behoorlik feesgevier met genoeg eetgoed. Saleh glip weg toe sy Emmanuel moet gaan voed, maar almal kuier heerlik verder. Laatmiddag word hulle op hulle eie gelaat om weer die mooi geskenke te bewonder en sommer die vreugde van nuwe ouerskap in te drink. Ashraf kan nie ophou om na Emmanuel te staar nie. Hy sit vasgenael langs sy bedjie en verwonder hom aan die handjies en voetjies, toegewikkel in sokkies. “Hy is pragtig, Saleh.” Sy oë is vol trane terwyl hy sy kop in verwondering skud. “Ons seun wat God vir ons gegee het.” “Ja, hy is. Dit is sekerlik die wonderlikste dag van my lewe.” “Ek dag dit was toe jy met my getrou het?” spot hy. “Ja, maar toe het ek nog nie vir Isa geken nie, ook nie vir God as my Vader nie. Ek is jammer, maar hierdie geleentheid is vir my beter,” sê sy ernstig. “Ek weet wat jy bedoel.”
Die dae en nagte is ineengestrengel. Voeding na voeding, winde uitklop en ure se slaap wat sy probeer inhaal. Saleh se emosies voel ook so ineengestrengel; eers loop die trane oor hoe pragtig haar volmaakte babaseun is en dan loop die trane weer omdat sy so sukkel met die voeding. Deur dit alles troos en bemoedig Nahed, Amsah en Ashraf eenstryk deur. Wat sou sy sonder hierdie mense rondom haar gedoen het? ’n Ander gas wat dikwels inloer, is die vurige jong man Butros. Hy kom egter nie om die baba se winde uit te vryf of te hoor hoe dit met die voedings gaan nie, hy soek Ashraf op. Hulle voer lang gesprekke oor die land en die gebeure in Tunisië en wat vir Egipte voorlê. Gesprekke wat Saleh onrustig maak, maar sy
het nie die kapasiteit om te fokus op dit wat hulle sê nie. Emmanuel se voedings en roetine neem elke kriesel van haar kopspasie in. Sy hoor hulle af en toe indringend gesels wanneer sy in die kamer besig is, maar steur haar nie veel daaraan nie. Ashraf klop aan die deur: “Saleh?” “Ja?” “Ek wil net gou saam met Butros kantoor toe stap om iets op die rekenaar te gaan kyk. Sal jy regkom op jou eie?” Sy het Emmanuel pas neergelê en hy slaap rustig. Dit sal eintlik lekker wees om ’n bietjie stilte om haar te hê. “Ja, dankie, ek sal regkom.” “Goed, dalk moet ek sommer ook gaan opvang met die waarby ons nog nie uitgekom het die afgelope paar dae nie.” “Ja. Ek het nog glad nie weer aan die kantoorwerk gedink nie. Dit sal goed wees as jy Nahed daarmee kan gaan help.” “Goed. Maar as daar enigiets is, stuur gou iemand om my te roep.” Saleh glimlag met hom. “Ek moet seker in ’n stadium alleen met Emmanuel leer werk?” “Jy’s al klaar ’n oulike mamma.” Hy gee haar ’n drukkie en kry saam met Butros koers. Vir die eerste keer in dae raak die woonstel stil. Salig. Saleh stort met die badkamerdeur oop sodat sy Emmanuel kan hoor as hy huil. Later haal sy die Injeel uit om te lees, maar raak aan die slaap in die proses. Sy slaap vas toe Emmanuel heelwat later huil. Ashraf kom laatmiddag eers terug. “Was als reg hier?” vra hy besorg. “Ja, dit het goed gegaan, dankie. Kyk hoe baie het Emmanuel gegroei vandag,” spot sy liggies en hou Emmanuel na hom toe uit.
Hy neem hom by haar en glimlag dadelik vir die wakker gesiggie. “My seun, die hele wêreld begin verander. Dit gaan ’n nuwe en ’n beter land wees waarin jy gaan woon. ’n Vry land.” Ashraf se opgewonde stem laat Saleh verras na hom kyk. “Wat is aan die gang?” “Groot, groot dinge, Saleh.” Ashraf se gesig is vol opwinding. “Watse dinge?” “Ek is nie presies seker nie, Saleh. Maar daar is ’n ontwaking in die land, ’n ontevredenheid, ’n roep om verandering.” “Ek hoor niks,” sê sy. “Dis op die internet, Facebook, Twitter. Dis net onder die oppervlak, Saleh.” “Dit maak my bang,” sê Saleh opreg. “Dit maak my bly,” antwoord Ashraf onverskrokke.
Hoofstuk 31
PRETORIA. JANUARIE 2011
Dit was baie stil toe Salomé klaar gepraat het. Petrus het haar laat vertel sonder om haar te onderbreek, maar selfs toe sy begin huil, het hy nie na haar toe gekom nie. Net gewag dat sy klaar vertel. Dis hoe sy geweet het hy is kwaad. Uiteindelik het hy gepraat, amper moeg: “Jy besef hierdie saak sou baie makliker vir ons al twee gewees het as jy my lankal vertel het?” Sy het geknik. “Ek is jammer.” “So dis wat Desember aan die gang was?” vra hy deurdringend. “Jy het soos ’n slaapwandelaar rondgeloop omdat die ding jou opeet, en jy sê my niks? Ons moet net almal uit jou pad bly.” Hy is regtig kwaad. Dit klink nou so eenvoudig, toe was dit nie. Sy het nie weer probeer verskonings maak nie, net gesug. Hy het geknik. “Gee my ’n bietjie kans om te dink.” Toe het hy uitgestap. Dit was ’n verligting dat dit uit haar sisteem was, maar haar hart was swaar oor sy reaksie. Nou sit hulle hier in die sitkamer voor die hoof se kantoor. Haar hande sweet en haar hart klop swaar. Dit was sy idee. “Wat?” Sy kon nie glo hy stel so iets voor nie. “Ja. Ons gaan praat die ding uit.” As sy stem só klink, weet sy dit help nie om te redeneer nie. Tog het sy probeer:
“Maar ek het niks verkeerd gedoen nie, Petrus. Wat moet ek gaan uitpraat?” “Die Woord leer ons dat dinge in die lig en nie in die duisternis nie moet gebeur. Ek glo ook dat jy niks verkeerd gedoen het nie, en daarom gaan ons daaroor praat. Ons gaan wys dat jy, ons, niks het om weg te steek nie.” “Ek kan nie dink ek moet myself so gaan verneder nie, Petrus!” het sy in trane uitgeroep. “Ons gaan jou nie verneder nie. Ons gaan jou juis beskerm. Jou reputasie. Ons gaan daardie giftonge stilmaak deur dit te doen.” Vasbeslote. Sy kon hom net geskok aankyk. Nooit het sy verwag dit gaan sy reaksie wees nie. Hy sou haar vergewe en vergeet en aangaan. Maar om alles te gaan ophaal met die hoof en Dirk en Gerda. Sy kan nou nog nie glo dat sy haar hierin begewe het nie. Sy het tannie Marié gebel. “Tannie,” het sy begin, “ek het drooggemaak.” “Wat het gebeur?” Sy het die hoofpunte vertel en toe afgesluit: “Petrus het voorgestel dat ons almal bymekaarkry en die ding uitpraat.” “Dis ’n uitstekende plan!” het sy uitgeroep. “Ek is doodsbenoud.” “Ek kan dit verstaan. Wanneer?” “Môreoggend.” “Ek sal bid,” het sy Salomé verseker. “Dankie, Tannie, ek het dit baie nodig.” Sy oorweeg dit om op te spring, motor toe te hardloop en te ry tot by die see toe Petrus, haar rots, haar hand druk. “Jy sal sien dit sal beter wees hierna. Regtig.” Sy stem troos nou en die woede is weg.
“Meneer en mevrou Pretorius, kom gerus deur.” Petrus se hand in hare maak dat sy nie summier omdraai en weghol nie. Dirk sit reeds en kyk ongemaklik weg. Gerda kyk giftig na hulle, selfvertroue en hooghartigheid in haar oë. Petrus is die grootste in die vertrek en met haar hand in syne laat dit Salomé ook ’n bietjie groter voel, al is sy die kleinste. Die hoof gaan neem weer plaas agter sy lessenaar, waarna ’n ongemaklike stilte wat soos ’n ewigheid voel, volg. Salomé is al weer naar. Die hoof maak keel skoon. “Nou ja, dames en here. Ek is bly ons kon die tyd vind om hierdie vergadering te belê om hierdie ongemaklikheid vir eens en vir altyd uit die weg te ruim.” Stilte. Wie gaan die eerste spreekbeurt neem? Dis asof Salomé na ’n skaakbord sit en kyk, maar self buite spel bly. “Mevrou Pretorius, sien jy kans om lig te werp op die gebeure?” Weer is die bodem onder haar weg, maar dié keer vat Petrus haar hand styf vas en knik bemoedigend. Gerda lyk smalend. Dirk kyk weg. Here, help! “Wel, ek en meneer …” Sy bedink haar. “Ek en Dirk het hegte vriende geraak oor die afgelope paar jaar by die skool. Maar laas jaar …” Sy sien hoe Dirk ineen krimp. Sy kies haar woorde versigtig sodat sy hom nie verneder nie. “Laas jaar het ons ’n meningsverskil gehad wat tot konflik gelei het. Ons het die saak eers uitgeklaar ná die skoolvakansie en dit was wat mevrou Genis gesien het toe sy by my klaskamer verbygestap het. Dirk het my ’n vriendskaplike druk gegee, ná ’n lang kwaaivriendskap. Sy het haar eie afleidings gemaak en my geweldige skade berokken deur ’n skinderstorie te versprei.” Sy kyk Gerda reguit aan en is meteens vlammend kwaad vir hierdie vermetele vrou. “Ek is gelukkig getroud, soos u kan sien, en my man is op die hoogte van al die gebeure.” Petrus kyk haar bemoedigend aan. Gerda Genis is dadelik op haar perdjie. “Maar het Dirk nie juis so skielik aansoek gedoen vir ’n ander pos omdat hy bang was julle verhouding kom op die lappe nie?”
“Dirk is geregtig om enige tyd aansoek te doen vir ’n hoër pos, mevrou Genis,” tree die hoof tussenbeide. “Dis darem baie toevallig,” kap sy snedig terug. “Nee, dit is nie,” antwoord Dirk. “Want daar was geen verhouding nie. Ek het gedink dis ’n goeie tyd om aan te beweeg, maar dit was my nie beskore nie.” Hy lyk effens beter. Hy was seker baie bang, dink Salomé. “Julle kan sê wat julle wil, maar enige aap kon aanvoel daar is iets tussen julle,” kom dit van Gerda. “Mevrou Genis,” keer die hoof weer. “U het baie ernstige aantygings gemaak. Het u enige bewyse?” “Net wat ek met my eie oë in die klas gesien het.” “En wat het u met u eie oë gesien?” vra die hoof. “Hoe hulle mekaar omhels!” roep sy uit. “Omhels of dalk ’n vriendskaplike druk gee om vrede te maak?” “Hoe sou ek weet?” Stilte. “Mevrou Genis,” laat Petrus vir die eerste keer van hom hoor, sterk, sonder om lelik te wees. “Besef u dat u afleiding dalk kon veroorsaak dat ons huwelik onder geweldige druk geplaas word?” Gerda lyk amper geskok. “As dit nie was dat ek my vrou met my lewe vertrou en geen twyfel aan haar lojaliteite gehad het nie, sou hierdie storie my huwelik kon knak. Daarom wil ek vra dat u asseblief voortaan met groot versigtigheid met ander mense se reputasies te werk sal gaan. So ’n skinderstorie sal nie net my vrou se loopbaan kan kelder nie, maar ook Dirk s’n en selfs myne. Is dit werklik wat u wil bereik of was dit maar net ’n lekker sappige brokkie nuus wat u wou versprei?” Daar is
steeds nie gif in sy stem nie, maar sy baie reguit blik dwing Gerda om te dink oor wat sy gesê het. Sy is tjoepstil. “Dirk,” Petrus kyk hom reguit aan. “Dit was ’n dom ding om te doen om my vrou te omhels, selfs al glo ek dit was bloot uit vriendskap.” Dirk knik onder Petrus se reguit blik. “Ek is jammer.” “Ek aanvaar dit, maar ek versoek dat jy nooit weer my vrou in so ’n moeilike situasie sal plaas nie.” Salomé weet sy woorde verwys na die gebeure van verlede jaar ook. Hy sal Dirk nie verneder voor die ander nie. Wat ’n ongelooflik man het sy nie. Dirk lyk soos ’n muis voor hom. “Mevrou Genis,” vervolg Petrus, “u aantyging is baie, baie ernstig en het baie ver versprei. Ek sal dit waardeer indien u oral waar u die storie versprei het, gaan regmaak en sê dat dit ’n misverstand was. Ek sal ook ’n verskoning aan my vrou waardeer.” Gerda sit eers baie stil en kyk toe na Salomé. “Ek is jammer. Ek wou nie soveel ongelukkigheid veroorsaak nie.” Salomé knik. “Gaaf,” sê die hoof, wat alles stil betrag het. “Ek is baie verlig dat ons hierdie saak kon uitpraat. Baie dankie vir die voorstel, meneer Pretorius.” Petrus knik. “Mevrou Genis, as u asseblief ’n oomblik kan agterbly, dan verskoon ons die res van julle. Dankie menere, mevrou Pretorius.” Hy knik vriendelik in haar rigting. Sy groet verlig en stap uit. In die portaal steek Petrus sy hand na Dirk toe uit. Dirk skud dit en kyk die groot man bewoë aan. “Salomé het reg gekies, Petrus.”
Toe stap hy terug na sy klas. Sy bly staan en voel skielik klein voor haar groot man. Groot van postuur, maar ook van gees. “Ek hét reg gekies,” sê sy en kyk hom vas in die oë. “Dankie, Petrus.” Sy glimlag terwyl hy wegstap. Daar is kilogramme van haar skouers af. Lilly verskyn later uit die niet langs haar. “Ek wil alles hoor,” fluister sy. “Jy mag nie ’n woord of ’n infleksie of ’n gesigsuitdrukking uitlaat nie.” Salomé lag en gee haar ’n druk.
Laatmiddag sit sy en Lilly op die stoep en kuier. Salomé het haar alles vertel en sy voel soos ’n nuwe mens. “Wanneer vertrek Petrus na Egipte?” “Volgende week.” Salomé trek ’n gesig. “Hy was nou weer ’n hele ruk by die huis en dit was weer so lekker normaal. Ek is hierdie keer ook banger, vir sy onthalwe,” erken sy. “Maar ek kan sien hy is opgewonde.” “Shame. Ek sal maar elke dag moet kom kuier,” sê Lilly gemaak gepynig. “Jy sal moet,” lag Salomé. “Maar jy’t gesê dié keer gaan hulle op ’n boekeskou of so iets werk?” “Ja, daar is jaarliks ’n groot internasionale skou in Kaïro. Hulle beman ’n stalletjie met Bybels, Jesus-films en Christelike boeke in Arabies. Die Christelike kinderboeke is ook baie gewild.” “Maar is dit nie teen die wet nie?” “Dit is teen die wet om ’n Bybel vir iemand verniet te gee, as ek reg verstaan. Maar as hulle dit verkoop, is dit nie teen die wet nie.” “Maar koop die mense dit dan?”
“Hulle vra net ’n minimale prys daarvoor, dan is dit bekostigbaar. Dit is een van die enigste maniere waarop mense daar ’n Bybel kan bekom; daarom is hulle nuuskierig en dan kom koop hulle. Hulle vertoon ook die Jesus-film op ’n skerm by die stalletjie en Petrus vertel hoe mense net kom stilstaan en kyk: soms na die hele film, maar veral na die toneel van die kruisiging. Dan begin hulle vrae vra.” “Kan Petrus dan so goed Arabies praat?” vra Lilly verstom. “Nee, net ’n paar basiese woorde en frases. Hy en sy span help maar met die donkiewerk, boeke ronddra en verkoop, en so, sodat die plaaslike Christene met die mense kan praat wat vrae het. En hulle bid vir elke ou wat verbystap of stilstaan.” “Dit is regtig ’n fabulous geleentheid.” “Ja, dit is. Hy vertel hoe mense daar uitkom en dan vra of dit die Boek is wat die man in die wit klere vir hulle gesê het om te kom koop. Dan het hulle drome of visioene van Jesus gesien. Dit gebeur oor en oor.” “Dit klink so opwindend, ek wil sommer ook gaan!” roep Lilly uit. “Ja, Lilly, maar dit is harde werk. Hulle staan lang ure op hulle voete en die boekeskou hou vir tien dae aan. En moenie dink almal is ewe opgewonde oor hulle uitstalling nie. Baie van die ekstremistiese Moslems staan en wag net buite die stalletjie en as hulle sien iemand het iets gekoop, intimideer hulle die mense om dit te gaan teruggee. Dit is hoekom daar so baie gebed nodig is.” “Agge nee, gee hulle dit dan terug?” leef Lilly haar in. “Sommige. Ander probeer maar net so vinnig moontlik wegkom, maar hulle is bang.” “Ek het gedink hulle sal jou met klippe doodgooi in daardie lande.” “Egipte is nog tot ’n mate ‘oop’ vir die evangelie omdat die Koptiese Kerk darem ’n voet in die deur het daar. Hulle word so min of meer verdra. Maar moenie sulke truuks in Saoedi-Arabië of Iran gaan uithaal nie. Hulle sal jou van die aardbol af laat verdwyn voor jy kan sê ‘onskuldig’.” “Ja, daar is jy bang hulle ruik die Heilige Gees op jou asem,” sê Lilly dramaties.
“Was Petrus al daar?” “Jip.” “Seker nie om Bybels op die straathoeke te verkoop nie?” “Nee, beslis nie. Jy moet hom eendag vra dat hy jou van sy reise vertel. Dit is baie interessant.” “H’m, terwyl jy tuis gesit het?” vra Lilly peinsend. “Ek maak kinders groot, suster.” “Dis goed dat jy volgende keer saamgaan,” sê Lilly beslis. “Ek dink jy mis iets.” “Miskien,” knik Salomé nadenkend. “Jy’t ’n goeie man getrou, Salomé,” sê Lilly ernstig. “Moeilike omstandighede, maar ’n goeie man. Jy moet dit onthou.” “Ek sal. Ek het dit vandag weer besef. Ek sien vir baie dinge kans as ek weet Petrus is in die prentjie. Ek kan my alie skop dat ek nie vir jou geluister het nie.” “Presies. Laat dit ’n les wees om altyd vir my te luister.” Sy lag goedig.
Vyf dae later lui die foon laatnag. Salomé skrik. “Hallo, Sally!” sê Petrus aan die ander kant. Aan die vreeslike geraas in die agtergrond lei sy af hy is in ’n publieke plek. “Haai, Petrus.” Sy is verras. Hy stuur gewoonlik net ’n SMS om te sê dat hy veilig is. “Het jy nuus gekyk, Sally?” vra hy versigtig. “Nee, wat het gebeur?” Sy skrik weer. “Ek was bang jy is bekommerd. Ons is veilig, Sally.”
“Wat gaan aan?” Die skrik bly steek. “Ons kan nie in die land inbeweeg nie en is steeds op die lughawe. Hier is mense net waar jy kyk. Al die toeriste probeer landuit vlug, maar geen vliegtuie styg op en niemand word ingelaat nie.” “Hoekom, wat gaan aan?” Sy voel histeries. “Dit klink vir ons daar het ’n rewolusie uitgebreek in Kaïro. Dis baie deurmekaar en niemand weet presies wat aangaan nie.” “Rewolusie! Wat gaan julle doen?” “Ons kan niks doen nie. Ons gaan eers net hier bly. Maar ek wil nie hê jy moet bekommerd wees nie; ons is nie by die opstande nie. Ons is vasgekeer in die lughawegebou.” “Wees versigtig, Petrus,” smeek sy. “Natuurlik, Sally. Bid vir ons dat ons verstaan wat die Here se plan is met ons hier, maar moenie bekommerd wees nie. Ons is heeltemal veilig.” “Pas jouself asseblief op, Petrus. Ek is lief vir jou.” “Ek vir jou ook.” Toe klik die foon.
Deel IV
God pity us that after years of writing, using mountains of paper and rivers of ink, exhausting flashy terminology about the biggest revival meetings in history, we are still faced with gross corruption in every nation, as well as with the most prayerless church age since Pentecost. – Leonard Ravenhill
Hoofstuk 32
WOESTYN, EGIPTE. JANUARIE 2011
Dit het begin soos ’n onderlangse fluistering. Toe het dit al hoe harder en harder geword, die geroep van ontevredenheid teen ongeregtigheid, die roep van vryheid vir Egipte. Jong mense word opgesweep en aangepraat op die sosiale media of enige ander kommunikasiemiddel wat ingespan kan word. Genoeg. Ons het genoeg gehad. Kyk na Tunisië; hulle president is weg. Dit is moontlik. Ons moet hande vat en ons moet protesteer. Weg met Mubarak. Kyk na Algerië; deur protesoptogte is hulle ná negentien jaar nie meer ’n noodstaat nie. Dit kan gedoen word. Dit word ’n eggo waarvan jy nie kan wegkom nie, wat jou meesleur, wat jou binneste vasvat en met die stroom wegvoer. Die ongehoorde woord “rewolusie”! Dit is ’n tsoenami wat almal met hom saamvat. Gaan die golf jou gooi, of gaan jy hom ry? Of is dit ’n lied wat eers baie sag gesing word en hoe meer dit herhaal word, hoe meer mense val in? ’n Oorverdowende dreunsang. Plotseling word die sosiale media deur president Mubarak se regering afgesny in ’n poging om die opstand nek om te draai. Maar die teendeel gebeur: Die mense gaan strate toe. Ashraf word ook deur die lied meegesleur: “Vryheid! Rewolusie! Weg met Mubarak!” “Jy kan nie Tahrir toe gaan nie!” Saleh was nog nooit so ontsteld nie. “Dit sal jou dood beteken.” Sy het vanoggend op TV die skare mense gesien wat opgeruk het na Tahrir-plein in Kaïro en vreesloos protesteer. Hulle het die publieke
vakansiedag gebruik en na die geboue van die regerende party, buitelandse sake en die staat se televisieateljees opgeruk. Skreeuende jong mans en meisies, woedende ouer mans en selfs ouer vroue met hulle vuiste in die lug. Hulle eis die afsetting van die land se diktator. Hulle noem dit die “Dag van woede”. “Saleh,” probeer hy verduidelik, “dis die begin van vryheid. Ek móét daar wees. Ek moet my stem by die mense s’n gaan voeg.” “As jou familie jou daar sien, is dit verby met ons en ons persoonlike vryheid. As hulle eers weet jy lewe nog, sal hulle jou volg tot aan die einde van die aarde. Dink daaraan. Vergeet van die sogenaamde vryheid van ’n nasie en dink aan óns vryheid.” “Dit is nie net ’n nasie se vryheid nie. Dit is die begin van vryheid vir ons as Christene ook. Ek is seker daarvan. Dit is waarvoor ek my vlag wil gaan swaai.” “Asseblief, Ashraf.” Die trane stroom oor haar wange. Sy smeek by hom. “Dink aan my en jou kind. Dit is nie die moeite werd om ons gesinslewe op te offer vir die geleentheid om ’n vlag te gaan swaai nie.” “Dit sal ten minste voel of ek iets dóén. Iets beteken in plaas daarvan om soos ’n lafaard weg te kruip!” roep hy gefrustreerd uit. Sy knik. “Ek verstaan, Ashraf. Ek verstaan hoe jy voel. Maar dit is nie die moeite werd nie. Boonop is jy nog nie sterk genoeg nie. Wie gaan jou help in daardie skare? Jy kan hoegenaamd nog nie ’n hele dag op jou voete wees nie.” “Ek is al baie beter. Ek is miskien mank, maar ek kan myself oral help, Saleh,” verdedig hy. “Tot jy moet begin hardloop vir jou lewe, Ashraf. Wie gaan jou dan help?” troef sy hom. “As almal soos lafaards wag dat iemand anders protesteer, gaan niks verander nie, Saleh.” “Almal se omstandighede is nie soos ons s’n nie,” kap sy terug. “Jy is meer werd hier op jou knieë vir hierdie nasie as daar aan die voorpunt met ’n vlag.” Ashraf kan sy humeur skaars beteuel en hinkepink na buite terwyl Saleh hom
moedeloos agterna kyk. Hoe groot moet sy frustrasie nie wees nie. Hier het hulle die binnekamerstryd wat mans en vroue seker al eeue lank voor elke groot oorlog en rewolusie stry: mans wat wil veg vir wat reg is en vroue wat hulle geliefdes wil behou. Is daar nie ’n makliker antwoord om die wêreld te verander, sonder sinnelose bloedvergieting nie, Here? Asseblief, Here, hou hom nugter. Praat Uself met hom. Ek kan hom nie nou al weer verloor nie, Here. Emmanuel hou haar besig. Hy is die hele dag moeilik, huil in sy slaap, sukkel om te drink. Sy wil na Ashraf gaan soek of ten minste saam met hom en die ander voor die TV sit en kyk na die regstreekse uitsendings van Tahrir-plein af. Sy voel afgesny van die wêreld, maar Emmanuel is so huilerig dat dit nie sal help om met hom uit te gaan nie. Boonop is daar ’n koue winterwind wat deur alles sny. Dit is gepas, die wind so saam met die opstande. Toe Emmanuel uiteindelik aan die slaap raak, probeer sy uit haar Injeel lees om vrede te kry. Sy probeer bid. Niks wil werk nie. Haar gees is onrustig. Emmanuel huil weer. Ashraf kom laatnag koulik in. Sy is al moedeloos gewag om te sien of sy geesdrif al uitgewoed het. Een kyk na sy gesig en sy weet dit het nie. “Wat het gebeur?” vra sy versigtig. “Die betogings duur voort. Die getalle word meer en meer. En die SuidAfrikaanse groep het op die lughawe aangekom, maar hulle kan nie uitkom nie. Niemand word in- of uitgelaat nie,” vertel hy kortliks. “Is dit Petrus-hulle?” Sy het nie onthou dat daar ’n span sou kom nie, want Emmanuel se eet- en slaaptye het op die oomblik alles in haar leefwêreld oorgeneem. “Ja. Hulle sou by die internasionele boekeskou gaan help.” “Is hulle veilig daar?” vra sy bekommerd. “Ja, dit klink so. Net ongemaklik met al die toeriste wat uit die land probeer vlug en ’n oorvol lughawe, maar veilig. Ons het vanaand ’n paar keer met hulle gepraat om iets te probeer reël, maar hulle mag nêrens heen gaan nie.” “Hierdie rewolusie krap alles deurmekaar,” sê Saleh omgekrap.
“Hierdie rewolusie is wonderlik, Saleh. Dit is die hoop van ons nasie se vryheid.” “Jy maak my bang as jy so praat,” sê sy sag. Hy kom na haar toe. “Ek weet, maar jy het tog nie met my getrou vanweë my lafhartigheid of omdat ek aan my ma se rokspante geklou het nie?” Sy begin huil teen sy bors, want sy voel aan wat kom. Haar hart klop swaar, seer slae. “Asseblief, Ashraf, moenie. Moenie gaan nie.” “Asseblief, Saleh, moenie my keer nie.” Hy sê dit so sag en teer dat haar hart wil breek. Sy klou aan hom vas. “Ek sal nie kan leef as ek jou weer verloor nie,” huil sy. “En ek sal sukkel om met myself saam te leef as ek nie gaan veg het vir wat reg is nie,” sê hy beslis. Daar is so baie wat sy wil sê, maar daar bly niks meer oor nie. Hieroor sal hulle nooit saamstem nie. Sy huil troosteloos teen sy bors terwyl hy haar vashou en haar rug vryf. Emmanuel begin ook huil. Ashraf gaan tel hom op en troos hom met soveel liefde dat Saleh se hart weer wil breek. “Wanneer gaan julle?” vra sy saggies toe Emmanuel weer rustig is. “Môreoggend.” “Wie gaan almal?” “Ek en Butros en ’n paar ander.” “Waar gaan julle bly?” “Op Tahrir.” “Hoe bedoel jy?” “Ons kamp daar op die plein tot die regering ingee. Dit is die ooreenkoms.” “Mensdom, Ashraf!”
“Ek sal versigtig wees, Saleh. Dit is nie ’n gewelddadige betoging nie. Vandag het vreedsaam verloop. Ek sal nie dom dinge doen nie. Maar ek wil daar wees.” Sy knik, maar die trane loop weer oor haar wange. Hy neem haar weer in sy arms en hou haar vas. “Ek is oneindig lief vir jou en vir ons seun, Saleh. Die gedagte aan julle het my vir maande aan die lewe gehou. Niks anders nie. Dit sal weer so wees.” Hy begin die trane saggies van haar wange afsoen terwyl sy aan hom vasklou. Hy soen haar eers sag en versigtig, maar later eis hy haar op. Haar liggaam word wanhopig syne terwyl sy in haar gees reeds afskeid neem. Later lê hy reeds en slaap langs haar terwyl sy op haar sy vir hom lê en kyk en die lyne van sy gesig met haar vinger natrek. Só sal sy hom altyd onthou. Sy sal vanaand ook altyd onthou, haar hart wat wil oopbreek van liefde en pyn gelyktydig. Vader, asseblief pas hom vir my op, smeek sy, al weet sy nie of dit wat hy doen binne die Vader se wil is nie. Later raak sy onrustig aan die slaap, net om weer wakker te skrik toe Emmanuel huil. Sy staan stil op en voed hom. Daarna begin sy vir Ashraf inpak, alles waaraan sy kan dink wat hy gaan nodig hê. Haar hart swaar en seer. Vroegoggend gaan lê sy weer koulik langs hom, maar kort daarna is hy op en begin klaarmaak. Doelgerig, beslis. Uiteindelik staan hy geklee en met die sak oor sy rug. Sy gee vir hom ’n briefie met ’n adres op. “Dis waar ek weggekruip het in Kaïro,” verduidelik sy. “As daar ooit enige probleme is, gaan daarheen, na Miriam toe. Sy sal jou help. Sy ken my as Talibah.” Hy knik en neem die nota, druk haar styf vas. Sy huil weer. Hy laat haar moeilik los, vee die trane van haar wang af. ’n Oomblik staan hy by Emmanuel se bedjie en vryf sag oor sy koppie. Bid sag. Toe is hy weg. Sy kyk nie hoe hy wegstap of hoe hulle wegry nie. Sy gaan groet ook nie die ander nie. Sy gaan klim terug in die bed, trek die duvet oor haar kop.
Emmanuel huil haar later wakker. Sy staan met ’n doodsheid in haar op en begin die gewone roetine. Haar hart is so swaar soos lood en sy moet kort-kort trane afvee wat vanself begin loop. Bewaar hom, Vader, asseblief. Die skietgebedjie rol voortdurend deur haar gedagtes. Sy oorweeg eers om net in die woonstel te bly, maar besef dit sal haar mal maak. Dus pak sy ’n doekesak met Emmanuel se goedjies, sit hom in sy drabedjie en stap na Hassan en Nahed se woonstel. Die huis is weer in ’n TV-kamer omskep en mense sit of lê om almal die skerm te kan dophou. Regstreekse uitsendings van Tahrir. Sy is dankbaar dat niemand haar dadelik opmerk nie. Net Nahed sien haar en neem haar na ’n kamer waar sy Emmanuel kan neerlê. “Is alles reg met jou?” vra sy besorg. Saleh skud haar kop. “Toemaar,” sê Nahed terwyl sy haar ’n druk gee. “Ons sal mooi na jou kyk.” “Ek kan hom nie weer verloor nie, Nahed,” sê sy sag. “Ek weet, ek weet.” Sy knik begrypend. “Hierdie mans van ons wat alewig moet gaan veg vir wat reg is. Dit maak ’n mens oud. Kom, kom ek gaan maak vir jou tee en dan kom sit jy by ons. Dalk sien ons hulle op TV.” “O nee!” roep Saleh uit. “Dan sal sy familie hom ook kan sien.” Nahed knik weer. “Ek verstaan. Ons kan net bid dat die Vader hulle sal bewaar.” “Ja, dis wat ek doen. Maar ek weet nie of ek dit kan vra as hulle dan so ’n simpel ding gaan doen nie?” “Ons mag nog steeds vra,” antwoord Nahed beslis. “Kon Hassan hulle nie keer om so ’n dom ding aan te vang nie?” roep sy onredelik uit.
“Ek dink Hassan sou self ook wou saamgaan as hy ’n bietjie jonger was, Saleh,” antwoord sy met ’n ironiese trek om haar mondhoeke. “Ek dink nie een van ons weet of hierdie rewolusie reg of juis verkeerd is nie. Ons almal wil vryheid hê. Dus moet elke man vir homself besluit.” “Emmanuel is so klein, Nahed. Ek kan nie die gedagte verduur dat hy dalk sonder ’n pa moet grootword nie.” “Ek weet,” troos Nahed. “Daarom gaan ons bid dat hy veilig terug sal kom.” Daar word dadelik vir haar ’n plek op die bank gemaak toe sy saam met Nahed terugstap. Sy kry bemoedigende drukkies van almal rondom haar. En daar, ingewurm op die bank tussen baie ander lywe, voel sy tog veilig. Sy onthou die intense eensaamheid van die woonstel waar sy weggekruip het en sy is innig dankbaar dat sy nie vandag alleen is nie. Die aantal mense wat na Tahrir-plein toe stroom, word al hoe meer, berig die TV. Derduisende mense het die uitdaging aanvaar om vir hulle vryheid te kom betoog en om te eis dat Mubarak sy posisie as president afstaan. Skare betogers vul die TV-skerm. Oral soek Saleh se oë na Ashraf of Butros of enigiemand wat bekend is. Sy hoop hy sal hom skaars hou vir die kameras. Vroeër het sy ’n SMS ontvang waarin hy haar gerusstel dat hulle veilig daar aangekom het. “Drie betogers en ’n polisieman het gister in die opstande gesterf,” kondig die nuusleser aan. Saleh se hart sit loodswaar in haar binneste. Ashraf het gesê dis nie gewelddadig nie … “Die opstande het ook uitgebrei na Aleksandrië en die Nyldelta-stede van Mansoura en Tanta asook die suidelike stede van Aswan en Assiut.” Sy hoor hoe Nahed die foon antwoord: “Hoe gaan dit met julle, Petrus?” Sy spits haar ore. “Ek verstaan … Sjoe dis wonderlik! …Waar bly julle? … Goed, goed. Beslis. Ons maak so … Groete van ons almal hier.” Sy lui af. Nahed vra of hulle die TV ’n oomblik kan afskakel. “Petrus en sy groep is steeds
gestrand op die lughawe, hulle kan nie in of uit nie. Maar blykbaar bedien hulle die mense daar. Die Here het hulle die strategie gegee om gesprekke te voer met die mense. Die meeste is toeriste of buitelanders en verstaan ’n bietjie Engels. Dus het hulle ’n goue geleentheid om die evangelie te bring. Hulle vra dat ons vir hulle bid.” Jawahir stem saam. “Ja, kom ons bid vir hulle en vir hierdie rewolusie. Ons het genoeg gesien om te weet hoe ons kan bid. Ons bid saam vir die vryheid van onderdrukking van ons land, maar ook vir die veiligheid van ons mense.” Saleh knik dankbaar. So bid hulle saam: vurige gebede, smeekgebede, lofgebede. Deur die loop van die gebede ervaar Saleh ’n verligting wat in haar binneste loskom. Dankbaar staan sy later op om Emmanuel te gaan versorg. Hulle is nie alleen nie. Die Vader weet van Egipte. Hy het hulle nie vergeet nie. Later die dag berig die TV die polisie het hulle verdediging opgeskerp en die skare gewaarsku as hulle nie ontbind nie, hulle ernstiger maatreëls gaan begin toepas. Saleh se hart klop weer in haar keel. ’n Heftiger reaksie word van die skare ontvang. Skielik word traangas en rubberkoeëls tussen die massas ingestuur. Gille klink op en mense hardloop vir skuiling. Sommige val neer, maar die betogers van agter stu vorentoe en weier om bes te gee onder die aanslag. Die chaos op die TV-skerm maak Saleh totaal paniekerig. Mense gil en hardloop en ander storm vreesloos vorentoe, baadjies oor hulle koppe getrek. Hulle bestook die polisie met klippe en brandende fakkels. Saleh se hart krimp ineen. Laatnag kry sy weer ’n SMS: Als reg hier. Ons slaap onder die sterre op Tahrir. Die atmosfeer is elektries! Lief vir julle. Dankie, Here! Donderdag 27 Januarie kondig Hassan gefrustreerd aan dat die internet afgesny is. Hulle probeer ’n paar drade verander, maar niks wil werk nie. Later bel hulle na
die diensverskaffer. ’n Elektroniese boodskap klink op: “Die internet is landwyd afgeskakel weens die opstande; tot verdere kennisgewing.” “Hulle doen dit natuurlik om die betogers te verhoed om nog mense te mobiliseer,” verduidelik iemand. “Agge nee! Nou sal ons nie ons vriende in die buiteland kan laat weet wat hier aangaan nie,” kreun Hassan. “Ek het gelukkig gister al een e-pos uitgestuur, maar as hulle niks verder hoor nie, sal hulle bekommerd raak.” “Hulle sal bel as hulle niks hoor nie,” stel Nahed hom gerus. “Hopelik sal dit nie lank duur nie.” Saleh kyk kort-kort op haar foon vir ’n boodskap en besef uiteindelik wat aan die gang is. “Nee!” roep sy geskok uit. “Kyk, die selfoonnetwerk is ook af.” Almal gryp hulle fone. Alle plaaslike netwerke is dood. Saleh se hart mis weer ’n slag. Sy het nou geen kommunikasie meer met Ashraf nie. Die doodsheid kom lê weer soos klip in haar binneste; teen hierdie tyd ’n bekende gevoel, eintlik haar metgesel. Die BBC-kanaal berig protesoptogte gaan in verskillende stede voort. Honderde mense is gearresteer, maar die protesteerders sê hulle sal nie ingee voor daar nie aan hulle eise voldoen is nie.
Hoofstuk 33
PRETORIA. JANUARIE 2011
Donderdagaand laat slaap die kinders uiteindelik en Salomé sit soos elke ander aand hierdie week kiertsregop en wonder wat sy kan doen om haar man in een stuk by die huis te kry. Die spanning in haar binneste is onbeskryflik. Sedert Petrus se oproep Dinsdagaand leef sy daarmee saam. Dit knoop haar derms en steel haar lag. Haar man sit op die lughawe van ’n land wat, te oordeel aan die TV-uitsendings, aan die brand is. Sy wag al die hele dag vir ’n SMS of iets met nuus van hom, maar daar kom niks. Soms kyk sy op die TV wat aan die gang is in Egipte, maar dan skakel sy dit weer af. Miskien is dit beter om nie te kyk nie. Sy is daagliks in verbinding met Petrus-hulle se kantoor in Suid-Afrika, maar hulle kon nog nie vlugte uit die land georganiseer kry nie. “Petrus wil nie terugkom nie, Salomé. Hy reken hulle móét nou daar wees,” het Gwen van die kantoor haar gister versigtig ingelig. “Die ander reisigers se familie wil egter hê hulle moet terugkom, dus sal ons hulle op die eerste moontlike terugvlug probeer kry,” het sy Salomé verseker. “Ek kan net nie belowe wanneer nie.” Dit maak seer. Sy weet dat Petrus daar wil wees omdat hy reken hulle het ’n doel daar in hierdie tyd. Hy het vertel hoe gesels hulle met en bedien hulle die uitlanders op die lughawe en hoe hulle die geleentheid gebruik om die evangelie te bring. Maar sy is jammer om te moet erken: Sy is selfsugtig. Sy wil hom veilig by die huis hê! Die evangelie kom nou tweede. Here! Het ek dit nou net gedink? Dat die evangelie tweede kom, bo my eie geluk. Ek is jammer, Here. Haar gees roep dit uit. Jy dink dit al lank, Salomé.
Sy sit tjoepstil. Dis waar, sy kan nie stry nie. Sy dink dit lankal. Ek is jammer, Here. Dis waar, ek dink dit al lank … Stilte. Hoe verander ek dit, Here? ’n Hartoorplanting. Dit is ook waar. Sy het ’n hartsverandering nodig. Goed, Here. Hier is my hart. Verander U dit. Ek kry dit nie self reg nie. Sy probeer niks voorgee nie. Sy ken haar koue hart. Jou hart is in goeie hande, kom die versekering in haar gees. Sy glimlag effe. Gaan dit seer wees? Beslis. Ernstig. Wat moet ek doen? Gee jou man vir my. Hoe, Here? Soos jy jou kinders vir my gegee het. Sy onthou haar gebede vir haar kinders ’n paar maande gelede, soos tannie Marié haar gelei het om te bid. Goed, Here. Maar die woorde wil nie dadelik kom nie. Sy is nie seker sy kan dit doen nie. Vertrou my. “Here, ek gee Petrus nou in u hande oor,” sê sy dapper. “Ek vertrou U. Ek vertrou dat U ’n plan met sy lewe het en dat U hom nog liewer het as ek.” Die trane loop oor haar wange. “Ek vertrou U met sy lewe en sy veiligheid. Ek weet
ek kan hom nie bewaar nie, Here, maar U kan.” En sy beleef die Gees se oortuiging in haar gees. “Doen met hom soos U goeddink, Here. Gebruik hom nou soos u wil. As U hom nou op die lughawe in Egipte wil gebruik om mense se lewe te verander, dan eer ek U daarvoor, Here. Wat ’n voorreg dat hy in u diens mag staan.” Sy glo dit regtig. Daar gaan ’n knoop los in haar binneste en sy voel ’n vrede wat sy in weke en maande nie beleef het nie. “Ek vertrou U met sy lewe en ek bid vir sy beskerming. Vir hom en die groep saam met hom. Bring hulle op u tyd weer terug na ons. Ek bid vir al die ander gesinne wat verlang en bekommerd is oor hulle familielede. Vertroos hulle ook, in Jesus se Naam.” Later skakel sy tog die TV aan. Sy blaai deur die kanale tot sy ’n nuusberig vind. Egipte se oproer is steeds internasionale hoofnuus. Egiptiese internet afgeskakel, lui die onderskrif. “Ons bevestig wat ’n paar ander stasies reeds vanaand berig het,” begin die nuusleser. “In ’n ongehoorde stap in internetgeskiedenis, wil dit voorkom asof die Egiptiese regering diensverskaffers opdrag gegee het om alle internasionale verbindings met die internet af te skakel. Kritieke Europees-Asiese veseloptikakabels skyn wel nog onaangetas te wees. Maar alle Egiptiese diensverskaffers, alle besighede, banke, internetkafees, webtuistes, skole, ambassades en regeringskantore wat op die vier groot Egiptiese internetdiensverskaffers aangewese is, se verbinding met die res van die wêreld is nou verbreek.” Dan is dit waarom sy geen nuus van Petrus gekry het nie. “Die Egiptiese regering se optrede vanaand het die land in wese op die wêreldkaart uitgewis,” vervolg die nuusleser. Here! Sy verstaan duidelik hoekom vanaand se gebede so nodig was. “Wat gebeur wanneer ’n moderne ekonomie en tagtig duisend mense se toegang tot die internet ontkoppel word? Wat gaan môre op straat en in die kredietmarkte gebeur? So iets het nog nooit gebeur nie, en die onsekerhede begin ophoop. Dink aan die mense van Egipte terwyl dit Vrydag word in Kaïro te midde van hierdie ongehoorde kommunikasieblokkering,” sluit die nuusleser af met ’n voorbode in haar stem. Onder haar gesig loop die onderskrif: Gebruikers van internet en
selfoonboodskappe in Egipte rapporteer geweldige diensontwrigting terwyl die land voorberei vir ’n nuwe vlaag protes ná die Vrydaggebede môre. Hy is veilig in die Here se hande, verseker Salomé haarself oor en oor toe sy die TV afskakel om te gaan inkruip. Dit neem haar lank om aan die slaap te raak; die implikasies van die nuusberig maal in haar gedagtes. Maar wonder bo wonder slaap sy die eerste keer hierdie week rustig.
By die skool is almal baie ondersteunend. Dirk ook. Hy is opreg besorg oor Petrus. Die hoof wou weet of sy verlof wil neem, maar dit gaan niks help om by die huis te sit en tob nie. Sy is eerder by die skool, dan gaan die tyd vinniger verby. Eintlik is sy meer bekommerd oor haar kinders. Hulle verstaan nie presies die implikasies van wat aan die gebeur is nie, maar met al die oproepe van familie en vriende wat uitvra, is dit of die erns van die situasie by hulle begin insink. “Is Pappa veilig?” vra Talitha die middag in die motor. “Ja, Talitha,” kan Salomé met sekerheid in haar stem antwoord. “Hy is in die Here se hande.” “Nou hoekom bel almal so?” wil Markus weet. “Omdat dit ’n ongewone situasie is. Die span kan nie uit die lughawegebou kom nie vanweë die opstande. Maar Pappa het my verseker die opstande is ver van hulle af.” “O,” antwoord Markus met twyfel in sy stem. Dit word stil in die motor. “Hoekom doen Pappa hierdie werk?” vra Talitha. Die Here weet, sy sou nie gister gereed gewees het vir hierdie vrae nie. “Omdat die Here hom gekies het om dit te doen. Pappa het die regte hart. Hy is lief vir die mense wat nie die Here ken nie en hy is dapper.”
“Ek wens hy het ’n ander werk gedoen,” sê Markus. “Eendag sal julle verstaan en dan sal julle baie trots wees op julle pa.” Sy kan so goed verstaan hoe die kinders dink. Sy sien op na die naweek wat eindeloos voor haar uitstrek. Haar enigste verbinding met Egipte is die TV, dus skakel sy dit Vrydagaand weer aan. “Dit is reeds die tweede dag wat die Egiptiese internet afgeskakel is en dit duur steeds voort. Met elke uur wat verbygaan, is die voortgesette kommunikasieverbreking ’n openbare bewys van die Egiptiese regering se onmag om beheer te herwin oor die situasie.” Dus sal sy vanaand ook geen nuus van Petrus kan verwag nie. Die TV wys weer die juigende skares by die brandende geboue van die regerende Nasionale Demokratiese Party. Egipte brand letterlik en figuurlik.
Vroeg Saterdagoggend het sy weer die nuus aan. Sy sit sommer in haar nagklere met haar koffie voor die TV. Die kinders slaap nog. “In ’n toespraak wat president Mubarak kort ná middernag gelewer het, het hy aangekondig hy het die kabinet van hulle poste onthef, maar hy weier om self van sy amp afstand te doen. Wat sy bewegings tans is, is nie bekend nie.” Hulle wys beeldmateriaal van die betogende massas en dit laat Salomé se bloed koud word. Sy kan net bid dat hulle nie tot by die lughawe sal vorder nie. Die nuusleser vervolg deur te sê Mubarak het vir die eerste keer in sy drie dekade lange termyn ’n visepresident aangestel, Omar Suleiman, die land se voormalige spioenasiehoof, wat nou met Mubarak saamgewerk het vir die grootste deel van sy heerskappy. Militêre magte is ook nou ontplooi na Sharm elSheikh aan die kus. Al Jazeera se korrespondent in die stad Suez sê die stad het ’n chaotiese nag beleef, maar die strate was teen dagbreek stil. Die VSA het alle Amerikaners wat tans in Egipte is, aangeraai om so gou moontlik die land te verlaat. Die Verenigde Koninkryk het sy burgers aangeraai om slegs noodsaaklike vlugte na Egipte te onderneem.
Beteken dit dan dat daar wel weer vliegtuie is wat Egipte verlaat? Sy sal sommer vroeg weer die mense van Petrus se kantoor in die hande probeer kry. Maar nie soos ek wil nie, Here, soos U wil, voeg sy vinnig in haar gedagtes by. Laatoggend kry sy uiteindelik vir Gwen van Petrus se kantoor op haar selfoon in die hande. “Nee, van die ander lugrederye het vlugte om hulle mense uit die land te kry, maar Egypt Air, waarop ons span bespreek is, vlieg nog nie,” sê Gwen. “Hoe lank dink jy gaan hulle daar gestrand wees? Wanneer sal die vlugte uit Egipte hervat word?” “Alles is baie onseker noudat die internet- en selfoondienste af is. Ek is jammer, Salomé. Dit is onmoontlik om met hulle te kommunikeer. Ek probeer die landlyne van die lugredery, maar kry geen antwoord nie. Die land is in chaos gedompel.” Sy klink moeg. “Wat is julle plan?” Sy weet daar is gewoonlik ’n noodplan. “Ons sal môre kyk of daar enige vordering is. Dit is ook nou naweek in die Arabiese lande en daarom nog moeiliker om iemand in die hande te kry. Môre is dit weer by hulle soos ’n Maandag by ons is, dan kyk ons wat ons kan uitrig met vlugte. Dit gaan ekstra koste beteken, maar ons wil hulle op die eerste vlug na Suid-Afrika kry.” “Ek is seker nie die enigste een wat bekommerd is nie?” vra Salomé. “Nee, van die mense se familie is histeries, veral noudat die kommunikasie afgesny is.” “Stuur vir my ’n lys van hulle name en nommers as jy kan, dan sal ek hulle bel en probeer kalmeer,” bied Salomé aan. “Dankie, Salomé, dit sal baie help.” Gwen klink opreg verras. “Ek e-pos vir jou die name en nommers.” “Dankie, Gwen, ek waardeer jou moeite hiermee.” “Plesier. Dis vir niemand van ons lekker dat so iets met een van ons spanne
gebeur nie. Maar wie kon dit nou voorsien, nè?” “Ja, dis nie in ons hande nie.” Hulle lui af, maar die foon lui dadelik weer. “Sally?” “Petrus!” Onmiddellik is haar oë vol trane. “Hoe gaan dit? Waar is jy? Is julle veilig?” vra sy als gelyk. “Ag, dis goed om jou stem te hoor,” lag hy. “Alles is reg. Dis eintlik wonderlik. Ek kan my net verwonder aan die gulde geleentheid wat die Vader ons gee met al hierdie bang en desperate mense op die lughawe.” “Maar hoe bel jy nou?” “Daar het plek oopgegaan in die hotel langs die lughawe. Van die mense se vlugte kon uiteindelik vertrek. Ek gebruik gou die hotel se landlyn, maar dis baie duur, dus wou ek net vinnig laat weet dat alles reg is hier.” “Ek waardeer dit ontsettend. Ek was so bekommerd.” “Ek kan dit dink. Maar moenie wees nie, ons het uiteindelik ’n bed en ’n stort, en ons gaan nou verskriklik lekker slaap op ’n sagte matras.” “Gwen probeer julle op die eerste vlug uit kry.” “Ja, ek verstaan. Ek los maar daardie in haar hande en gebruik die tyd wat ons het. Skryf gou die hotel se nommer neer dat ons mekaar ten minste in die hande kan kry.” Toe hulle aflui, skakel sy dadelik vir Gwen met die goeie nuus. “Dankie, Here!” roep Gwen uit. “Dit is ’n groot verligting om met hulle te kan praat en te weet hulle is veilig. Ek sal hom sommer nou bel.” “Goed, en ek sal die res van die groep se gesinne gerusstel. Ons praat dan weer sodra ons nuus het,” spreek sy met Gwen af. Die foon lui amper onmiddellik weer. Haar ma. “Ek hoor daar is opstande of iets
in Egipte. Is Petrus nie nou daar nie?” vra sy ontevrede. “Ja, hy is, Ma,” antwoord sy rustig. “Ons het julle gesê dis malligheid om in die Midde-Ooste rond te flenter. Hoe gaan jy maak as jy drie wesies moet grootmaak?” roep sy uit. “Petrus-hulle is gelukkig veilig, Ma,” antwoord Salomé, al was Petrus se veiligheid nie regtig haar ma se bekommernis nie. “Hulle bly in die hotel langs die lughawe en kom met die eerste moontlike vlug terug.” Sy is so dankbaar haar ma het nie ’n uur vroeër gebel nie! “Ek hoop nie jy oorweeg dit nog om na daardie godverlate plek te gaan nie?” sêvra haar ma aanvallend. “Ek kan nie nou daaroor besluit nie, Ma. Ons sal maar sien wat gebeur. Maar as Ma nie omgee nie, ek moet gou al die gesinne laat weet dat hulle veilig is. Ons praat weer.” “Nie as dit van jou afhang nie. Jy bel mos nooit,” kry haar Ma ’n stekie in. Salomé voel die skuldgevoel maar te duidelik. “Ja, Ma,” sê sy gelate. “Miskien is dit omdat ek altyd voel dat ek raas kry wanneer ek met Ma praat.” “Nou’s dit my skuld.” Haar ma is weer dadelik op haar perdjie. “Ons praat later, Ma. Ek moet nou groet.” En daarmee lui sy moedeloos af. Sy gaan nie nou tob oor hulle verhouding nie. Daar is families wat wag om nuus van hulle mense te hoor.
Hoofstuk 34
WOESTYN, EGIPTE. JANUARIE–FEBRUARIE 2011
Dis drie dae sedert Saleh van Ashraf gehoor het. Die selfoonnetwerke is intussen al weer aangeskakel. Om die waarheid te sê, dit word deur die regering gebruik om boodskappe te stuur van hoe dislojaal die betogers teenoor die regering is en dat hulle aangekeer en gekonfronteer sal word. Maar dié intimidasiestrategie blyk nie te werk nie, want massas stroom steeds na Tahrir. Wat Saleh egter rasend van bekommernis maak, is dat nie Ashraf of Butros hulle fone beantwoord nie. As sy hulle probeer bel, skakel die foon direk oor op stempos en die SMS’e word nie beantwoord nie. Drie eindelose dae wat sy soveel moontlik voor die TV na die uitsendings sit en kyk met die hoop om hom te sien, net om dan weer te hoop dat sy hom nie sien nie. Sy is steeds bang sy familie volg ook die gebeure. Die plaaslike Al Jazeera-kanaal is intussen ook verbied en sy is baie dankbaar dat hulle toegang het om per satelliet na die Britse TV-kanale te kan kyk. Emmanuel hou haar gelukkig baie besig, en dit help dat die tyd vinniger verbygaan. Sy is vreeslik gespanne en vermoed dat hy dit aanvoel. Sy sukkel meer as gewoonlik om hom gevoed en aan die slaap te kry. Vader, ek wil nie my kind sonder sy pa grootmaak nie, sug sy dikwels. Sy eet en slaap vir Emmanuel se onthalwe. Maar haar hart is by die nuusberigte. President Mubarak het ’n aandklokreël probeer afdwing om die mense uit die strate te kry. Ná die normale Vrydaggebede volgens Mohammed se voorskrifte, het nog geesdriftiges na Tahrir gestroom en die opstande het al hoe aggressiewer geword. Die Egiptenare is nie bekend vir hulle kalm redenasievermoë nie, dink sy wrang. Wel vir hulle warm humeure en hulle luidrugtigheid.
Die nuusleser se gesig is ’n grimmige masker weens die gewigtigheid van wat sy aankondig. Vier en sewentig sterftes, gru Saleh. Wie se kind, se broer, se man is dit? Dalk hare … Sy kom nie veel verder as skietgebedjies nie. Haar gemoed is te swaar om deel te neem aan die daaglikse gebede by die sentrum. Sy sit soms net tussen hulle en laat die ander se gebede oor haar spoel. Dis salf vir haar gees. Hoe lank het sy Ashraf by haar gehad? ’n Maand, ses weke? Dis net te gou om weer met hierdie aaklige spanning saam te leef. As sy net iets van hom kan hoor! Maandag berig die nuus dat opposisiegroepe hulle beywer vir ’n “miljoenmanprotes” en ’n algemene staking môre om die week wat die protes al duur te gedenk. Militêre magte het intussen herhaal dat hulle nie die beswaarmakers sal beseer nie. Egipte se nuwe visepresident het onderneem om samesprekings met opposisiepartye te voer ten einde die konstitusionele hervorming deur te voer. Beswaarmakers van ’n verskeidenheid politieke en demografiese groepe kamp steeds op die Tahrir-plein uit. Die Wit Huis sê die Egiptiese regering behoort by burgers betrokke te raak om die huidige onrus tot bedaring te bring. Volgens Obama se segsman Robert Gibbs gaan die krisis in Egipte nie oor aanstellings nie, maar oor optrede. Hulle moet aandag gee aan die vryhede wat die mense van Egipte wil hê. Weer flits daar beeldmateriaal van die massa wat in opstand is. “Was dit Ashraf?” roep Saleh spontaan uit terwyl die ander vasgenael sit en luister en kyk. “Daar, in die hoek, agter op die skerm. Ek dink dit was hy, maar ek is nie seker nie.” Niemand weet nie, almal kyk en soek weer met die oë, maar die kamera swiep verder. As dit hy is, weet sy ten minste hy lewe nog. Daar waar net doodsheid in haar borskas was, is nou skielik intense pyn van onsekerheid en hoop. Sy bly die hele dag voor die TV. Later sit sy alleen daar. Die nuus berig dat die ses Al Jazeera-joernaliste wat in Kaïro gearresteer is, vrygelaat is.
Dit is natuurlik in ’n poging om die massas te kalmeer, dink Saleh. Toe, wraggies, kom daar ’n heruitsending van die beeldmateriaal! Sy fokus mooi op die hoek waar sy hom gesien het. Ja, daar sien sy hom weer, sy gesig effe weggedraai van die kamera, maar dit lyk beslis na sy profiel! Haar hart wil sing, maar sy is tog nog onseker. Dit was so ver en so vinnig. Vader, ek kies om te glo dat hy wel lewe, praat sy in haar gees en daar kom ’n kalmte oor haar. Die gebed breek uiteindelik los in haar binneste: Ek het gebid vir ’n teken en vertrou dat dit U was wat dit vir my gewys het. Dankie, Vader, dat U my man beskerm. Steek hom weg vir die vyand. Vir die eerste keer vandat Ashraf weg is, slaap Saleh rustiger, al maak Emmanuel haar wakker vir sy voedings. Op 1 Februarie berig die nuus dat groot saamtrekke in Kaïro en ander stede plaasvind sedert die protesleiers ’n beroep gedoen het dat ’n miljoenmanprotes van stapel gestuur word. Joernaliste op Tahrir-plein skat honderdduisende het opgedaag; mans, vroue en kinders oor ’n breë spektrum van die Egiptiese samelewing. In nog ’n televisieonderhoud het president Mubarak aangekondig hy sal sy amp neerlê ná September se presidensiële verkiesings. Hy het hom verbind tot konstitusionele hervorming, maar sê hy sal in sy amp aanbly om ’n ordelike oorgang tussen hom en sy opvolger te bewerkstellig. Protesleiers eis egter dat hy teen Vrydag 4 Februarie op die laaste sy amp moet neerlê. Mohamed ElBaradei, die Egiptiese opposisiefiguur wat teruggekeer het na Kaïro om deel te neem aan die protes, sê Mubarak se verbintenis om nie weer vir die presidentskap te staan nie, is ’n vorm van misleiding. En Abdel-Halim Kandil, leier van die Egiptiese Kifaya-opposisiebeweging, sê Mubarak se aanbod om nie vir ’n sesde termyn as die staatshoof te dien nie, is nie genoeg nie. Later word berig die aantal beswaarmakers op Tahrir-plein word geskat op meer as ’n miljoen mense. Steeds stroom duisende mense deur die hele Egipte die strate in, insluitende Aleksandrië en Suez.
Die internet is weer aangeskakel!” roep Hassan Woensdag uit. Dit is omtrent ’n gedoente in die woonstelletjie soos die groepie na die rekenaar toe storm om die wonderwerk te aanskou. “Hoekom?” vra Amsah. “Die opstande is dan nog nie verby nie?”
“Ek weet nie, maar ek kla nie!” roep Hassan uit. “Ons is weer op die lug.” Hulle lees op ’n Amerikaanse webtuiste oor die gebeure in hulle eie land. Die “Geveg van die Kameel” het geweld laat toeneem. Vlae Mubarak-ondersteuners bots met antiregeringsopstandelinge en sommige kom Tahrir-plein met kamele en perde binnegery; party swaai swaarde en stokke in die lug. Daar was honderde ongevalle. Militêre magte het by herhaling die twee groepe van mekaar probeer skei. President Mubarak het in onderhoude herhaal hy weier om nou sy amp neer te lê. “Net tien dae die rewolusie in en nou veg ons eie mense al weer teen mekaar,” sê Nahed somber. “Dis nou nie meer die weermag teen die massas nie. Hemel, kan ons Egiptenare nie net vir eenmaal saamstaan nie?” Ag, Here, laat my man tog nie onder die ongevalle wees nie, bid Saleh weer stil. As hy net wil bel of laat weet dat hy veilig is. Snags slaap Emmanuel sommer by haar in die bed en sy klou eintlik aan hom vas. Haar beskermingsdrang is heeltemal buite proporsie geruk sedert Ashraf weg is, besef sy. Maar hy is ’n deel van Ashraf, iemand aan wie sy fisiek kan vashou in hierdie tyd. Sy laat toe dat sy nabyheid haar troos.
Donderdag 3 Februarie bring ontstellende beeldmateriaal. ’n Verslaggewer vanaf Tahrir-plein berig die konflik wat op 2 Februarie begin het, het oornag opgevlam en lewendige ammunisie, petrolbomme en klippe word gebruik. Ten minste dertien mense het gesterf. Saleh se moed sak tot in haar skoene. Die volgende oomblik storm iemand op die TV-joernalis af en gryp die mikrofoon uit haar hand. ’n Kameraman probeer die beelde afneem soos van die ander joernaliste deur die plaaslike polisie aangeval en van hulle kameras en ander toerusting beroof word. Die verbinding word onverwags afgesny en toe word daar deur die TV-anker in Brittanje gesê dat hulle binnekort ’n verslag oor die gebeure sal probeer lewer. Saam met die res van die groepie gaan soek Saleh verder op die internet na ’n berig oor wat aan die gang is. Hulle kom uiteindelik op ’n inskrywing van ’n
joernalis van ’n internasionale koerant af. Daarin word berig joernaliste van verskeie nuusagentskappe is aangerand, aangehou of op ander maniere gedwarsboom. Die Komitee vir Beskerming van Joernaliste het gesê Mubarak het ’n ongehoorde en sistematiese aanval op internasionale media geloods wat uitsaainetwerke verhoed om regstreekse beeldmateriaal van Tahrir-plein af uit te saai. Geen TV-uitsendings, geen selfoonboodskappe! Wat nou? Dit voel vir Saleh of sy gaan mal word. Maar Nahed se hand lê gerusstellend op haar arm. “Kom ons bid weer,” sê sy. Die groepie gaan sit almal in die sitkamertjie en bid vir hulle land en hulle vriende. Saleh is verbasend kalm toe hulle klaar gebid het.
Vrydag 4 Februarie breek aan. Die datum waarop die ultimatum aan Mubarak gegee is. Vroeg-vroeg sit Saleh al voor die rekenaar. Die blogwerf berig van aanvalle op joernaliste, aanhouding en teistering wat sorgwekkende afmetings aanneem. Drie Franse joernaliste is selfs deur ongeïdentifiseerde aanvallers ontvoer. Saleh voel baie jammer vir die joernaliste wat so verniel is, maar sy voel nog jammerder vir haarself dat sy nie meer die gebeure op TV kan volg nie. Wat sy die graagste sal wil weet, is nie wat met die joernaliste gebeur nie, maar wat op Tahrir-plein aangaan. Sy soek op webtuistes van nuuskanale vir enige brokkie nuus en foto’s. Uiteindelik kom sy op die beriggie af wat sê ’n groot skare beset steeds Tahrirplein. Protesleiers verwys hoopvol hierna as president Mubarak se “dag van vertrek”. Meer militêre magte is teenwoordig en Mubarak-ondersteuners bly op ’n afstand. Dit lyk asof dit ’n vreedsame byeenkoms gaan word ná die laaste twee dae van geweld. Dankie tog! Hulle kan doen met ’n bietjie vreedsaamheid. Ag, Vader, laat Mubarak tog asseblief vandag van sy troontjie afklim dat hierdie ding net kan einde kry. Hassan antwoord toe die foon lui. Terwyl hy praat, word die vertrek stiller en
stiller. “Ek verstaan … Ja, ja, Ek verstaan … Ek sal die liggaam kom uitken … Reg so. Ek sal daar wees.” Toe hy aflui, is sy gesig grys en hy moet gaan sit. Almal is te bang om te praat. Saleh se mond is kurkdroog. “Ek moet ’n jong man se liggaam gaan uitken,” kry hy dit uiteindelik uit. Hy het gister in die opstande gesterf. Ons telefoonnommer was op ’n kaartjie in sy rugsak. Daar was geen ander identifikasie nie.” Soos een man draai alle oë na Saleh. Haar kop sukkel om sin te maak van die woorde. Sy probeer net oor en oor onthou of daar ’n kaartjie in Ashraf se sak was met ’n telefoonnommer op. Sy kan nie onthou dat sy dit ingepak het nie, net van die kaartjie met Miriam se besonderhede wat sy hom gegee het. Die vertrek en die simpatieke oë druk alle lug uit haar longe. “Ek gaan saam,” sê sy hees en stap haastig uit om te gaan regmaak terwyl dit voel of sy sweef. Hulle moet dadelik ry. Volgens Islam-tradisie moet ’n lyk binne vier en twintig uur begrawe word.
Hoofstuk 35
PRETORIA. FEBRUARIE 2011
Die dag voor Petrus tuis kom, besef Salomé sy was so gespanne met al die drama die afgelope tyd dat sy nooit gesien het hoe Markus gegroei het nie. Hy lyk sommer ongemaklik in sy skoolklere. Sy sal dringend ’n plan moet maak. Ai, waar gaan sy die geld daarvoor uitkrap? Sy wou eintlik haar hare mooi gaan sny voor Petrus terugkom, maar dit sal maar moet wag. Nes laas maand, dink sy effe opstandig. Toe was dit skryfbehoeftes en ’n nuwe skooltas vir Markus wat nou in graad vier is en skielik baie meer plek vir sy boeke nodig het. Hoe kom ander mense uit met hulle geld? En dan dink sy nog daaraan om saam met Petrus Egipte toe te gaan! Sy sal dit seker op haar maag moet skryf. Petrus … Sy verlang intens. Sy sal so bly wees as hy weer by die huis is. Hoe hy haar ook al verseker dat hy veilig is, maak die nuusgebeure haar bang. Sy neem Markus die middag ná skool winkel toe vir die skoolklere, kyk paniekerig na die pryse, maar maak seker hy kom dit nie agter nie. Dit is duurder as wat sy verwag het. “Kyk hierdie cool tekkies, Ma!” roep hy uit. “Almal by die skool het nou sulkes. Kan ek dit asseblief kry?” Hy kan doen met ’n nuwe paar tekkies, maar haar beursie bars reeds. “Nee, Markus. Nie vandag nie. Ons het kom skoolklere koop, onthou jy?” “Maar ek het nie tekkies wat my pas nie, Ma. Die ander is te klein.” Dis waar, sy weet. “Ek het nie nou geld daarvoor nie, Markus.” Sy haat dit om altyd hierdie
verlammende rede voor sy voete te gooi, maar dis die waarheid. “Dalk teen die tyd dat dit winter is, kan ek dit vir jou koop.” Sy gesig hang. Die aaklige, moedelose geveg vir ’n bietjie geld vir luukshede wat hulle maar te dikwels verloor. “Ek is jammer daaroor, seun. Maar gelukkig is dit nou somer en kan jy kaalvoet loop.” “Hoe kan ’n mens meer geld maak, Mamma?” vra hy in die motor op pad huis toe. “Jy kan iets maak en verkoop, of aan mense ’n diens lewer wat hulle wil hê,” antwoord sy gelykmatig, maar haar hart is erg opstandig. Hoe graag sou sy vir hom die tekkies wou koop. Die aand toe almal slaap, lê sy nog wakker. Sy begin sommer hardop bid, ’n bietjie kwaad vir God. “Here, ek wil nie opstandig wees nie, ek wil tevrede wees. Maar Here, ek wil nie hê my kinders moet swaarkry omdat ons so dikwels moet nee sê vir goed nie. Dis aaklig. Ek wil hulle soms net kan bederf. Ek wil nie hê hulle moet skaam kry voor hulle maats nie. Ek sukkel met hierdie ding en ek sien Markus ook. Asseblief, help my en die kinders om ’n dankbare lewe te lei en tevrede te wees met wat ons het. Dankie dat U belowe het U sal voorsien in al ons behoeftes en U dit nog altyd gedoen het. Maar mag ek vra dat U my sal help om die kinders ook soms te kan bederf?” Sy huiwer ’n bietjie, toe sê sy amen. Hulle het lanklaas vir Petrus op die lughawe gaan ontmoet. Vroeër het hulle dit dikwels gedoen; die seuns is so lief daarvoor om na die vliegtuie te gaan kyk en opgewonde vir hulle pa te wag. Later het dit net te veel van ’n omwenteling vir hulle huishouding beteken. Hulle sou nie betyds wees vir skool nie of dikwels het hy in skooltyd tuisgekom. Dus het hulle ’n nuwe reëling getref dat hy en die span met ’n bussie na die lughawe toe ry, daar parkeer en dat almal dan weer tuis besorg word ná die tyd. Maar vandag wil sy op die lughawe wees. Maak nie saak hoe sy vir die kinders se onthalwe voortgegaan het asof sy nie bekommerd is nie, sy weet hoe verlig sy sal wees as daardie vliegtuig met hom aan boord neerstryk en hy deur die
skuifdeure uitstap. Talitha het ’n groot karton gemaak met Welkom tuis, Pappa! in groot, helder, skewe letters en sy het die seuns help ballonne opblaas. Dit lyk omtrent of hulle hom ’n jaar laas gesien het, dink Salomé terwyl die koppe na hulle toe draai. Die kinders neem so na moontlik aan die deur stelling in terwyl sy hulle van ’n afstand af dophou. Ná wat voel soos ure se gewag, kom daar uiteindelik ’n lang man met ’n ongeskeerde gesig deur die skuifdeure. Hy verwag hulle nie en kyk dus nie soekend op soos sommige van die ander reisigers nie. Toe Alexander egter “Pappa!” skree en sy kop dadelik soek na die stem, prik die trane agter Salomé se oë. Hy vang die kinders verras in sy arms toe hulle hom bestorm. Uiteindelik kry sy ook ’n beurt en hy druk haar lank en styf vas. “Dit is die lekkerste verrassing waarvoor ek kon wens,” sê hy by haar oor. Sy is dankbaar sy het nie toegelaat dat die brandstofkoste haar daarvan weerhou om te kom nie. Hulle stap ’n entjie uit die ergste saambondeling en die kinders gesels opgewonde met hom. Hy glimlag oor hulle heen met haar. “Maggies, maar ek het verlang hierna.” Die seuns ry saam met hom in die leë bussie huis toe en sy en Talitha kom agterna met die motor. Die ander spanlede is al tuis. Hy het hulle eerste laat huis toe gaan soos sitplekke op vlugte beskikbaar geraak het. Die spanning sypel uit Salomé se lyf terwyl hulle huis toe ry en sy voel ’n doodse moegheid oor haar toesak. Langs haar kwetter Talitha. Dankie dat hy veilig terug is, Here. Die moegheid lê in die lyne langs sy mond, maar sy oë blink soos hy van al die opwinding vertel. Daar was geleenthede om mense van Jesus te vertel, soms net om hulle met praktiese dinge te help op die lughawe, waar almal soos verlore skape rondgemaal het. Die meeste mense het kwaad geword en geëis dat hulle op die eerste vliegtuie geskeduleer word. Petrus wou juis nie eerste ’n vlug neem nie sodat hy die geleentheid kon benut om met mense te praat. Blykbaar het verskeie mense dan gevra hoe hy so kalm en vriendelik in hierdie situasie kan
wees. Dit was natuurlik die regte geleentheid om dan van Jesus se onselfsugtige liefde te deel. “Ek is trots op jou, my man.” Hy kyk verras op. “Dankie, Sally,” sê hy stil. Toe glimlag hy sy skewe glimlag. “Ek is trots op jou ook. Jy het mooi kalm gebly. Jy moes gehoor het hoe die ander ouens se vroue te kere gegaan het toe hulle hoor wat daar aan die gang was. Dit was eintlik ’n bestiering toe die selfoonnetwerke afgeskakel was sodat daardie mans nie meer soveel druk van die huis af ervaar het nie.” “Jig, maar dit was nie lekker om dit te hoor nie. Wees verseker daarvan.” “Ek kan dit dink. Maar jy het dit nietemin soos my spanmaat hanteer en nie soos my opponent nie. Dankie, Sally.” “As jy so aangaan, gaan ek die hele aand omgrens,” beskuldig sy hom terwyl sy haar oë afvee. Hy lag en druk haar ’n oomblik vas. “Dit was in daardie dae so ongelooflik om die stories te hoor wat van Tahrir af gekom het. Blykbaar het die IT-ouens programme geskryf om verby die regering se blokkering te kom sodat hulle steeds die sosiale media kon gebruik om met die massas te kommunikeer. Hulle het verby elke blokkering gekom.” “Is dit hoekom die regering dit weer aangeskakel het?” “Ek vermoed so. Ekonomies is dit ’n baie dom besluit om jou land van die internasionale verhoog af te haal. As dit dan in elk geval nie help om binnelands vrede te bewerkstellig nie, dan skakel jy dit seker maar weer aan. Nou toe! Kom ons gaan koop vir die kinders pizza sodat ons fees kan vier.” Die kinders juig toe hulle die nuus hoor. In die restaurant gaan sit hulle oorkant mekaar. “Onthou jy daardie vroutjie van wie ek jou vertel het, die een met die man wat so lank weg was?” vra hy. “Ja, die een wat deur sy broers vergiftig is?”
“Ja, hy. Hassan het my vertel dat hy ook gaan deelneem het aan die rewolusie en nou weet hulle weer nie waar hy is nie.” “Agge nee!” roep Salomé uit. “Maar vir wat het hy dit gaan staan en doen?” “Hulle wil deel wees van hulle land se vrymaking. Hulle hoop natuurlik dat dit vir die Christene ook vryheid sal beteken.” “Maar sal dit?” vra Salomé. Sy probeer nog hierdie rewolusie verstaan. “Wel, van die Christene was baie dapper. Hulle het traktate laat druk en begin versprei onder die mense wat aan die rewolusie deelneem. Daar is blykbaar ’n ongekende harmonie onder die beswaarmakers. Skielik maak dit nie meer saak of jy ’n Christen of ’n Moslem is nie. Die feit dat jy opstaan vir vryheid, maak jou ’n broer. Wanneer dit tyd is vir die Moslem-gebede, kniel die meerderheid nog steeds in die rigting van Mekka en bid. Die Christene, daarenteen, gebruik die kans om die mense met meer vrymoedigheid van Jesus te vertel. As daar so ’n openheid is, Sally, dan beteken dit die hele geestelike atmosfeer begin verander. Dit is presies waarvoor ons al jare bid. Dit is vir my ’n geweldige deurbraak.” “Dis wonderlik,” sê Salomé opreg bly. “Ja, dis soortgelyk aan die Berlynse Muur wat destyds geval het, onthou jy dit nog?” vra Petrus. Salomé knik. Sy was pas op hoërskool en al oud genoeg om te begryp dat dit ’n groot wêreldgebeurtenis was. “Ek bid dat daar in Egipte ’n geestelike muur geval het. Ek kan nie wag om terug te gaan en al die getuienisse te hoor nie.” “Dink jy ons sal nog kan gaan?” frons Salomé. “Ek hoop regtig so,” antwoord Petrus ernstig. “Hierdie uitreik was enig in sy soort, maar ek het nooit by die mense uitgekom vir wie ek wou bemoedig nie. Ons kon slegs telefonies kommunikeer. Ek sal hulle baie graag wil sien.” “Ek verstaan, maar hoe lank gaan die land in soveel chaos gedompel wees?”
“Net tyd sal leer.” Toe Salomé later die aand tevrede met haar arms om sy lyf lê en na sy diep asemhaling luister, wonder sy hoe sy ooit vir haar man so kwaad kon wees. Sy sal geen ander man in die wêreld wou hê nie. Al wens sy soms hy was meer in die land en ’n bietjie ryker. Sy glimlag sommer vir haar eie gedagtes in die donker. Dankie, Here, vir hierdie besonderse man wat U vir my gegee het. Dankie dat ek weet ons finansies hou my nederig, en U hou van nederigheid.
Thea het vroeër gebel om te hoor of Petrus veilig tuis is. Sy probeer vrede maak, besef Salomé. Haar suster voel nog sleg oor die skinderstories en daarom vra sy of hulle kan kom kuier. Sy bring dikwels van die klere wat haar ouer seuns uitgegroei het vir Salomé se seuns en hulle is altyd baie bly daaroor. Vandag kry Salomé effens skaam toe Markus sommer dadelik gretig die klere begin uitpak. “Kyk, Ma!” Hy staan met ’n verwonderde glimlag, die tekkies wat hy so graag wou gehad het in sy hande. Dankie, Here, dink sy boontoe. U het ons nie vergeet nie. “Dankie, Tannie!” roep Markus bly en gee Thea ’n stywe druk voor hy hardloop om die tekkies te gaan aanpas. “Maar dis nog splinternuwe skoene, sus,” maak Salomé kapsie. “Ja, ek het dit vir Wikus gekoop, maar dit was te klein,” maak sy dit af. “Dankie, maar hoekom vat jy dit nie terug nie?” vra Salomé verbaas. “Ag, ek kom nie daarby uit nie en ek het gedink Markus sal daarvan hou.” Ongekompliseerd. Salomé skud haar kop effens. Kleingeld vir haar. Nee, stuit sy haar gedagtes. Die Here het haar gehoor en sy kies om Hom die eer daarvoor te gee. “Kom ons gaan
maak koffie,” sê sy dus. “Ek is jammer dat ek so ontsteld was oor die skinderstorie by julle skool,” begin Thea terwyl hulle wag vir die ketel om te kook. “Ek het gedink dit was jy omdat hulle van die musiekjuffrou gepraat het.” Salomé is verras. Sy is nie gewoonlik verskonend nie. “Maar dit was nie jy nie, nè?” maak Thea tog seker. “Wel, die skinderstorie was oor my, maar dit was nie die waarheid nie,” antwoord sy reguit. Daar is verwarring op haar sus se gesig. “Daar was ’n storie dat ek en ’n ander onderwyser ’n verhouding gehad het, maar dit is nie waar nie. Dit is wel baie sleg as sulke stories versprei word.” Haar sus moet ’n bietjie sluk aan die inligting. “Ek sal nooit in my lewe ’n verhouding met ’n ander man hê nie, Thea. Dit was ’n misverstand,” probeer sy verduidelik. “Ja, eintlik het ek al die tyd geweet jy sal nie. Maar hoekom het hulle dan so ’n ding versprei?” “Dit is ’n lang, aaklige nagmerrie, wat ek nie gaan herhaal nie. Dis nou verby,” antwoord sy beslis. “Hoe gaan dit met jou?” verander sy die onderwerp. “Dit gaan goed, Salomé, regtig. Maar ek mis jou,” kom dit onverwags. Salomé kyk vinnig op. Sy knipper haar oë teen die trane. “Sjoe, sus. Die ding is net, ons wêrelde is so ver van mekaar verwyder en ek wil nie altyd moet skaam kry of my man se beroep en my wêreld verdedig nie.” Die woorde kom vanself uit haar mond. “Ek weet,” antwoord Thea. “Ek gaan van nou af beter probeer verstaan. Jy het ’n wonderlike man met ’n baie vreemde beroep.” “Ja,” glimlag Salomé skeefweg. “Ek verstaan sy beroep ook nie altyd nie.”
“Daarom dat ek vandag met ’n voorstel wil kom,” begin Thea huiwerig. “En dit is?” “Jy het laas jaar iets genoem dat jy saam met Petrus Egipte toe wil gaan?” “Ja, maar ek het intussen besef dat ek dit nooit sal kan bekostig nie,” blaker sy uit, siende dat hulle nou harte oopmaak. “Ek sal bly wees as julle sal gaan wanneer dit veiliger is daar. Maar dan is die vliegkaartjie op my en ek sal met groot liefde jou kinders oppas,” antwoord Thea. “Dankie, sus, dis baie gaaf, maar ek het dit nie gesê sodat jy my moet uithelp nie.” Sy wil-wil haar vererg. “Ek wil maar net soms eerlik kan wees met jou.” “Ek waardeer dit. Maar ek het al gister daaroor besluit en by Naas seker gemaak dis reg met hom ook, nog voor jy iets daaroor gesê het. Asseblief, Salomé, laat my toe om dit vir jou te doen.” Sy klink opreg. Salomé is lank stil. Sy verdien dit nie. Here, ná alles wat ek oor my suster gedink het. “Dankie, sus, dit sal wonderlik wees.” Hulle druk mekaar. “Ma gaan jou afslag,” sê Salomé as ’n nagedagte. Sy wil glad nie hê ek moet gaan nie.” “Ma hoef mos nie alles te weet nie?” knipoog Thea sameswerend en hulle lag saggies.
Is jy tuis? is al wat Lilly ge-SMS het. Kort nadat Salomé Ja, hoekom? geantwoord het, lui die klokkie by die hek. Salomé stap dadelik na buite. “Wat’s fout?” vra sy sonder om te groet, erg bekommerd. Lilly antwoord nie, haal net versigtig twee plastiekstafies uit ’n sakkie en hou dit
na Salomé toe uit: twee strepies. “Jy is swanger!” roep Salomé en gryp haar vriendin om die hals. Hulle lag en huil en praat deurmekaar. Salomé sleep haar binnetoe. “Wat sê Pieter?” vra Salomé terwyl sy vir Lilly tee maak. Rooibostee. Lilly trek ’n gesig vir die tee. “Hy weet nog nie,” sê sy kalm. “Wat?” vra Salomé geskok. “Wel, ek het nou net die toets gedoen en toe moes ek net vir iemand vertel. Ek het geweet jy kan ’n geheim hou. Nou moet ek aan ’n oulike plan dink om dit vir hom te vertel, maar my kop is skielik so plat, ek kan aan niks dink nie.” “Dan is jy beslis swanger,” lag Salomé. “ ’n Mens noem dit swangerbreinvries. In sommige gevalle gaan dit nooit oor nie,” sê sy met ’n vonkel in die oog. “Soos in jou geval?” laat Lilly haar nie onderkry nie. Nadat Lilly die rooibostee afgewurg en hulle ’n paar planne beraam het om Pieter met die goeie nuus te verras, ry sy huis toe. Salomé sit met ’n diep glimlag op haar gesig. As Lilly maar net weet hoe haar lewe nou gaan verander. Maar miskien is dit beter dat sy nie weet nie.
Hoofstuk 36
KAÏRO. FEBRUARIE 2011
Die rit na Kaïro voel eindeloos. Saleh sit net by die venster en uitstaar. Die “wat as”-vrae draai om en om in haar verstand. Hoe sy dit ook al probeer stilmaak, dit wil nie werk nie. Wat as dit Ashraf is? Wat as dit nie Ashraf is nie? Sy het glad nie die vermoë om nou praatjies te maak nie. Hassan en Nahed eerbiedig dit en ook hulle kyk strak voor hulle uit. Dis gevaarlik om nou te ry. Daar is padblokkades op al Kaïro se in- en uitgangsroetes. Nahed bid die hele pad saggies. Saleh se bid het opgedroog. Sy is net dankbaar dat iemand anders nou kan bid. In haar hart het ’n doodsheid en ’n stilte kom lê wat net deur die nuus dat Ashraf nog lewe weggeneem sal kan word. Sy kyk na Emmanuel se slapende gesiggie langs haar, dankbaar dat hy is so klein dat hy kon saamgaan. Sy sou te bang wees om hom agter te laat. Hy is haar rede om voort te ploeg. Liefste Emmanuel. Hulle word weer afgetrek. Haar hart klop swaar. Hassan en Nahed groet vriendelik, maar sy kyk af en hou haar doenig met Emmanuel se kombersie, al slaap hy vas. Hulle moet die bak oopmaak, alles word deurgekyk en toe wuif die beamptes dat hulle kan deurgaan. Sy sug van verligting. Die strate aan die buitewyke van die stad is ongewoon stil. Sy het gevra of hulle Emmanuel by Miriam kan gaan aflaai voor hulle na die lykshuis gaan. Saleh het nie laat weet dat hulle kom nie en hoop maar net dat Miriam hier is. Hassan en Nahed klim nie uit nie. Sy klim self behoedsaam by die agterste trappe op en klop saggies aan die deur. Geen antwoord. “Miriam,” roep sy saggies. Verbeel sy haar of hoor sy iets?
Sy roep weer. Die deur gaan eers net op ’n skrefie oop en vlieg toe deur wawyd oop. “Kind!” roep Miriam uit en trek haar en Emmanuel in sy drabedjie binnetoe. Trane rol oor Miriam se wange. “Talibah! Dit is die beste verrassing wat ek kon kry. Ag, en met jou pragtige baba. Kyk net hoe oulik. Kom binne, kom, ek maak vir jou tee …” “Ek kan nie nou tee drink nie, Miriam. Ek kom eintlik net ’n guns vra.” “Wat is dit? Jy weet ek sal enigiets doen.” “Ek moet saam met vriende na die lykshuis gaan om ’n persoon te gaan uitken.” Sy sien hoe Miriam skrik. “Ek wil nie vir Emmanuel saamneem nie. Kan hy asseblief hier by jou bly tot ek terugkom?” “Maar natuurlik, kind. Ek sal met graagte na hom kyk.” “Ek het ’n lysie gemaak van sy roetine. Hier is die melkies wat ek vir hom ingepak het. Ek hoop nie ons sal langer as twee voedings weg wees nie, maar indien wel, weet ek hy is in goeie hande.” Sy kyk betekenisvol na Miriam. “Ai, my kind,” sug Miriam en gee haar ’n druk. “Hier, maak toe jou hare met hierdie kopdoek en wees asseblief versigtig.” “Dankie, Miriam. Ek kom jou later alles vertel.” “Natuurlik, my kind.” Saleh kyk vir oulaas na Emmanuel en druk ’n soentjie op sy kop. “Pas hom asseblief mooi op, Miriam.” “Met my lewe, my kind,” sê sy plegtig. Hulle trek dadelik weg toe Saleh in die motor is en sy veg teen die trane terwyl hulle wegry. Sy verlang sommer al klaar na haar seuntjie en die gewigtigheid van wat vir haar voorlê, maak haar totaal weerloos. Nahed draai om en lê haar hand ’n oomblik bemoedigend op hare. Hulle ry soek-soek na die lykshuis. Dit is moeilik omdat hulle heeltyd die
afgesperde paaie in die rigting van Tahrir moet vermy. Uiteindelik hou hulle in die parkeerarea voor die deur van ’n baie ou gebou stil. Gepas, dink Saleh. Maar sy weier om verder te dink. Alles in die gebou is koud en doods. Hassan groet ’n stram gesig agter die toonbank, vul ’n vorm in. Uiteindelik stap hulle stadig en amper in gelid agter die klerk se voetstappe in die gang af. Elke geluid weerklink in die groot, swaar stilte. Die klerk stap by ’n koue vertrek in, soek met die laaie al in die ry af en trek sonder seremonie ’n laai oop. Saleh skrik toe sy besef dit is ’n laai met ’n lyk in. Draai summier haar kop weg en forseer haarself om tog te kyk. ’n Diep hartseer kom sit in haar lyf. Die skoene, dit is Butros se skoene. Arme jong, voortvarende Butros. Sy loer skrams na sy gesig, maar sy weet klaar en draai summier om. Hassan en Nahed praat in gedempte stemme agter haar met die klerk toe sy uitstap. Hoe kan sy beskryf wat sy voel: ’n skuldige verligting dat dit nie Ashraf is nie, maar terselfdertyd ’n diep, diep hartseer dat Butros sy lewe gegee het. Gegee vir wat? skree sy geluidloos ten hemele. Vir wat? En waar is Ashraf? Hy is lojaal. Hy sou tog nooit sy vriend net anoniem in die straat laat lê het nie? Daar kom weer ’n ontsettende vrees oor haar en sy draai op haar hakke om. Stap terug. “Het julle nog lyke saam met hom gevind?” vra sag maar dringend vir die klerk. “Ja, daar was. Maar hulle is reeds almal geïdentifiseer. Net hierdie jong man …” Sy knik en stap weer uit. Hierdie keer stap sy regdeur tot buite waar sy weer vars lug kan inasem. Butros. Hulle ry in stilte na Sister Martha en Uncle George se woonstel toe. Hassan het ’n lys name en nommers van begrafnisondernemers in sy sak. “Sterkte,” het die klerk hulle sinies toegewens. “Ek weet nie wie hierdie man
gaan begrawe met die rewolusie wat aan die gang is nie.” Dit is opvallend hoe stil dit by die woonstelle is. Saleh hoop almal is so besig om die rewolusie op TV te volg dat hulle nie die drie verdwaalde skape sal opmerk nie. Hassan en Nahed reken seker ook daarop. Sy huil onbeskaamd toe Sister Martha haar teen haar aandruk. Dit voel of sy by die huis gekom het. Sy huil en huil. Later, toe hulle almal hartseer met ’n koppie tee sit en Hassan die begrafnisondernemers een-een van die landlyn af bel, kom die vraag by haar op: “Maar hoekom het julle nie landuit gevlug, na Amerika nie? Is dit nie vir julle gevaarlik om hier te bly nie, Uncle George?” “Nee wat, Saleh,” antwoord hy rustig. “Ons is veilig binne die wil van die Here, en ons glo dit is waar ons nou is.” Sy knik. Watter merkwaardige mense is hulle nie. As iemand haar nou die kans gegee het om landuit te vlug, dan het sy. Dalk moet sy? Maar Ashraf … Wat sou gebeur het? Hoe sou dit gekom het dat Butros in die lykshuis beland en Ashraf net soos ’n groot speld verdwyn het? Hospitale? Toe Hassan klaar gebel en ’n werkbare reëling getref het, vra sy of sy dalk die hospitale kan bel. Sy bestudeer die telefoongids en begin een-een opsoek en bel. Sy gee Ashraf se naam, maar wonder of hy enige identifikasie by hom het. Sy gee ’n beskrywing, maar besef hy lyk tog soos elke ander Arabier in Egipte. Gefrustreerd sit sy die foon ’n uur later neer. Onverwags voel sy haar borste vol melk skiet: Emmanuel. Hulle eet saam, maar sy is haastig om by haar baba uit te kom. “Ek kan nie nou al saam met julle teruggaan nie,” sê sy in die motor. “Ek wil ’n rukkie by Miriam agterbly en kyk of ek Ashraf kan opspoor.” Nahed en Hassan kyk na mekaar. “Ons was bang daarvoor,” antwoord Nahed eerlik. “Ashraf sal ons geweldig kwalik neem as ons dit toelaat, Saleh,” sê sy baie ernstig.
“Ek verstaan, maar dit was voor hy weer van die aardbol af verdwyn het. Nou moet ek hom gaan soek voor sy voetspore so uitgevee is dat ek hom nooit weer kan vind nie.” “Dit is te gevaarlik vir jou en die kind, Saleh,” sê Hassan streng. “Ek sal veilig wees by Miriam. Sy het my weggesteek in die tyd wat ek hier weggekruip het en sy kan my help met Emmanuel terwyl ek soek,” smeek sy. Hulle antwoord is stilte. “Ek is seker daar het iets met Ashraf gebeur, anders sou hy al kontak gemaak het. Asseblief, as hy in die moeilikheid is, moet ek hom help.” “Kom ons gaan eers terug en begrawe Butros, dan sal ek terugkom en kom soek,” belowe Hassan. “Dit is vir jou net so ’n groot risiko, Hassan. Hoe sal dit anders wees vir jou as vir my?” “Ek sal graag wil kom kyk hoe lyk hierdie rewolusie van naby,” sê hy met ’n effense glimlag in sy vrou se rigting. Nahed skud net haar kop. “Saleh, ek stem saam met Hassan. Ons gaan eers terug en oordink hierdie ding. Ons bid mooi daaroor en hoor by die Vader wat ons moet doen. Dit help nie jy gaan nou halsoorkop in hierdie ding in nie; dit is nie wys nie.” “Maar ek sien nie kans om sonder hom te lewe nie. As Butros hom nie kon help nie, lê hy dalk nou al vertrap in ’n sloot iewers!” roep sy uit. “Ons verstaan, Saleh. Maar jy gaan hom nie help deur in die strate rond te dwaal en na hom te soek nie. Daar moet ’n ander manier wees, ’n strategie wat ons van die Vader gaan afbid,” hou Nahed voet by stuk. Hoe het sy so ’n gevangene geword van haar omstandighede? Gaan sy en haar kind altyd weggesteek lewe? Vaderloos en manloos, dink sy opstandig. “Dink aan jou kind, Saleh,” troos Nahed deernisvol.
“Dis wat ek doen.” Hulle ry in stilte verder tot by die woonstel, waar hulle haar aflaai. “Ons kom haal julle weer oor ’n uur en ’n half,” sê Hassan sag maar beslis. Terwyl sy die trappe opstap, hoor sy Emmanuel huil. Sy stap al hoe vinniger tot sy hardloop. Klop vinnig. Sy hoor hoe Miriam dadelik skarrel. “Dankie tog, kind,” sê Miriam. “Hy is honger, maar hy wil nou niks weet van hierdie bottel nie.” “Dankie, Miriam.” Sy vat Emmanuel by haar. Hy huil eers erger toe hy haar sien, maar toe sy hom troos en aan haar bors sit, begin hy gulsig drink en raak rustig. Nou en dan ruk ’n droë snik deur sy lyfie. “Het hy nog niks gedrink nie?” vra sy bekommerd en kyk af na die gesiggie. “Hy het gelukkig die eerste bottel melk sommer maklik gedrink. Maar voor dit het hy lekker geslaap en was hy vriendelik. Nou was hy lank wakker, hy wou nie slaap nie; seker oor hy vreemd was en hy is natuurlik nou doodmoeg.” Sy ogies val sommer toe terwyl hy drink. Saleh is skoon ontsteld dat hy so moes huil. Die dag was ’n skoppelmaai van emosies en sy is self doodmoeg. Hoe begeer sy nie om net hier in Miriam se veilige woonstel te bly nie. Maar toe sy Emmanuel reeds op die trappe hoor huil, het sy besef dat dit nie veilig is nie – enigiemand sal dadelik hulle teenwoordigheid hier opmerk. Nee, sy sal moet teruggaan. “Kom, hartjie, ek maak tee en dan vertel jy my alles,” sê die liewe Miriam. Sy vertel haar die hele aanloop. “Dit was toe nie hy nie, Miriam, dit was sy vriend. Maar nou weet ek glad nie waar Ashraf is nie.” Miriam skud haar kop. “Hierdie mans van ons wat ons soveel bekommernis kan veroorsaak,” sê sy medelydend. “Ek wil so graag by jou bly en hom soek, maar die mense by wie ek bly, reken dit is te gevaarlik.”
“Ai, hartjie, ek sou jou graag hier wou hou, maar ek is self maar bangerig. Die wêreld hier staan op sy kop.” Hulle kuier en ruil nuus uit en te gou kom die tyd dat Saleh weer moet gaan. “Dankie, Miriam.” “Dit is net ’n plesier, Talibah, en pas jouself mooi op. Ek is nou so bly ek het jou pragtige baba gesien.” Dit voel steeds soos verraad dat Miriam nie weet wat haar regte naam is nie. Sy glip in die donker by die trappe af en op pad na die motor. “Saleh?” vra ’n manstem. Sy kyk werktuiglik op. Die skrik wat in haar kom sit, is verskriklik. Dit is Ashraf se ouer broer Khaled …! “Saleh Samir,” sê hy sardonies. “Die kafir wat ek nou al lank probeer opspoor. A, en die baba is gebore. Wonderlik!” Sy meet met haar oë die afstand tot by die wagtende motor. “So lank het ons nou al die strate gefynkam vir jou en hier loop ons Ashraf raak by ons eie rewolusie. Opgestaan uit die dode. Amper soos julle profeet Isa.” Hy lag vir sy eie grappie. Sy wonder of hy weet dat die motor vir haar wag. Sy twyfel, want hy staan met sy rug na die motor. “En daar is die adres toe in sy rugsak. My maggies, dit lei ons toe na die wegkruipplek van al die rotte!” lag hy gevaarlik. Sy spring weg, maar hy het dit verwag en gryp haar arm in ’n knelgreep. Sy hou Emmanuel in sy drabedjie met haar ander arm so ver moontlik buite sy bereik. Dan sien sy motordeure oopvlieg. “Jy gaan nie weer wegkom nie, jou hoer,” sê hy by haar oor. Sy sien die klip kom en toe dit hom op die rug tref, laat los hy momenteel. Sy ruk los en hardloop met alles wat sy het na die motor toe. Intussen vlieg nog ’n
klip oor haar kop en sy hoor hoe dit agter haar weer die teiken tref. Nahed gryp Emmanuel se bedjie. Hulle spring in die motor en trek met skreeuende bande weg. Saleh sien haar swaer opstaan en agter hulle aanhardloop. Hassan jaag weg deur die strate. Eers sê niemand iets nie, almal se asem jaag. Toe begin Emmanuel huil. “Kom, my liefie, kom na Mamma toe.” Saleh haal hom uit sy bedjie en besef sy huil ook. “Wie was dit?” vra Nahed eerste. “My swaer. Hulle het Ashraf!” “Wat het hy gesê?” “Lewe Ashraf nog?” vra Hassan reguit nadat sy vertel het hoe dit gekom het. “Ek weet nie,” huil Saleh. Dis lank stil. Hassan ry met ’n spoed en vernuf wat verklap dat dit nie die eerste keer in sy lewe is dat hy wegjaag nie. “Dankie vir die klip, Hassan,” sê Saleh sag. Hy glimlag skeef. “ ’n Ou Bybelse tegniek om jou vyand uit te haal.” Hulle ry ’n lang ruk in stilte. Saleh se hart klop swaar en seer. Ashraf! “Jy sal vir Miriam moet waarsku,” verbreek Hassan die stilte. Haar hand vlieg na haar mond. “Miriam!”
Deel V
The opportunity of a lifetime must be seized within the lifetime of the opportunity. – Leonard Ravenhill
Johannes 12:24: Dit verseker Ek julle: as ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net alleen; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in.
Hoofstuk 37
KAÏRO. APRIL 2011
Salomé kyk deur die vliegtuigvenster na die liggies onder haar: Kaïro. Sy wens sy kon dit in daglig van bo af sien. Haar hand is styf in Petrus s’n toegevou. Hy glimlag met haar. “Ek is so bly jy is saam met my hier.” Hy is opgewonde. Dit is sy wêreld. “Ek is ook bly.” “Verlang jy al?” terg hy. “Na die kinders? Nee, nog nie.” Sy lag effe. “Dis nog lekker so alleen saam met jou.” “Hulle sal dit ontsettend geniet by Thea,” verseker hy haar weer. “Ja, ek dink ook so. Sy gaan hulle vreeslik bederf. Al die lekker elektroniese speelgoed wat ons nie het nie, is vir tien dae tot hulle beskikking.” “Ja-nee. Ek twyfel of hulle baie gaan verlang,” glimlag hy. “Senuweeagtig?” vra hy weer toe die vliegtuig begin neerstryk. “ ’n Bietjie,” erken sy. Nie vir die landing nie, maar vir die oudio-Bybels in hulle tasse. Sy kan maar net weer bid dat hulle nie deursoek sal word nie. Dis net hulle twee wat gekom het om te kom uitvind hoe dit met die kerk in Egipte gaan ná die rewolusie. Die stuurorganisasie het nie gedink dis veilig om nou al weer ’n groep te stuur nie. Sy is terselfdertyd spyt en bly daaroor. Petrus is vir tien dae net hare en tog sou sy ook die gebedsreise wat hy gewoonlik onderneem, wou beleef.
Petrus bid sag vir hulle veiligheid en toe knip die liggie van die sitplekgordels af. Nou ná middernag is die lughawe stil. Die sekuriteitswagte staan moeg rond. By paspoortbeheer neem die onvriendelike klerk omtrent sy tyd om seker te maak dit is werklik sy op die paspoortfoto. Uiteindelik knik hy en sy is verlig toe die stempel op haar boekie val. Een hekkie is verby. Hulle kry hulle tasse sonder moeite op die roteerband en dit lyk onaangeraak. Tweede hekkie. “Welkom in Egipte!” roep ’n portier joviaal en begin onmiddellik hulle tasse stoot. Salomé kyk vraend na Petrus. “Is dit veilig?” Hy knik. “Hy doen dit vir ’n fooitjie. Dis baie stiller as gewoonlik op die lughawe. Hulle het seker die geld nodig.” “Julle toeriste?” knoop hy op gebroke Engels ’n geselsie aan terwyl hulle stap. “Julle kom besoek?” Hulle knik. Dis die veiligste antwoord. “Welkom, welkom!” vervolg hy. “Ons het piramides en beste kos in wêreld.” Hy lei hulle moeiteloos verby doeane en toe maak die klein aankomsaal voor hulle oop. Oorkant die vertrek staan ’n jong man en wag. Sy gesig helder op toe hy Petrus sien. “Petrus! Habibi!” klink dit op. Hy soen Petrus op beide wange en gee hom ’n broederlike druk. “En dit,” wys hy na Salomé. “Jou vrou?” “Ja, my vrou Salomé. En dit is Youssef.” “Saloeme,” spreek hy haar naam uit. “So bly om jou te ontmoet. Ons het uitgesien na hierdie voorreg.” Hy is baie joviaal en sy Engels is goed. Nie naastenby soos die ongeskikte mans wat sy van die ruk in Doebai onthou nie.
“Dankie,” antwoord sy bedees. “Kom, kom, ek neem julle kar toe.” Terwyl Youssef en Petrus gesels en nuus uitruil, verkyk sy haar aan die breë maar stil strate van Kaïro. ’n Wêreldstad. Anders as wat sy haar dit voorgestel het en tog op ’n manier dieselfde. “Jy kan nie glo hoe hierdie strate kan verander as ’n mens in die verkeer beland nie. Hulle reken dit is van die ergste verkeer ter wêreld,” vertel Petrus oor sy skouer. Kort voor lank word hulle afgetrek. “Militêre polisie,” verduidelik Youssef effens senuweeagtig. Die polisie vra na hulle paspoorte, kyk daardeur, lig met flitse deur die motor. Die bak moet oopgemaak word. Ons tasse, dink Salomé benoud. Die oudio-Bybels. Gelukkig word die tasse nie oopgemaak nie en kan hulle verder ry. Youssef vertel daar is om elke hoek en draai ’n padblokkade sedert die rewolusie. “En hoe gaan dit nou ná die rewolusie?” vra Petrus die groot vraag op sy hart. “Dis heelwat anders as vroeër. Sedert Mubarak ná tien dae uiteindelik aan die eise toegegee en uitgetree het, is Egipte ’n ander land. Die polisie is saam met hom ontslaan; daarom is daar nou militêre polisie aan diens. Dit beteken meer en minder vryheid,” vertel Youssef. “Hoe so?” vra Petrus. “Wel, ons het meer vryheid omdat die polisie nie meer om elke hoek en draai is en Christene se doen en late bekyk nie. Maar ons het ook minder vryheid omdat hulle ook nie meer daar is om ons teen die fundamentalistiese Moslems te beskerm nie.” Petrus knik. “Dit is voorwaar ’n interessante tyd.” “Ja, tot en met die komende verkiesing is dit niemandsland. Julle moet saam met
ons bid dat ons nou ’n regering sal kry wat die Christene goedgesind is en dat die Christene nie hierdie tyd sal gebruik om landuit te vlug nie, maar om juis nou die vryheid te gebruik om die evangelie te verkondig.” “Ja, dit is ’n goue geleentheid,” sê Petrus nadenkend. “Wie weet hoe lank julle die geleentheid sal hê.” “Presies. Maar die Christene is bang. Dit gee ons moed om te sien dat julle hiernatoe gekom het, dat julle nie bang is nie, al was daar ’n rewolusie. Dit gee ons moed,” herhaal hy. Dit voel na ’n ewigheid wat hulle ry. Salomé kan later nie meer haar oë oophou nie. Hulle het ’n lang dag agter die rug. Vanoggend was sy nog by die huis en by die kinders. Was dit net vanoggend? Wees by hulle, asseblief, Here, bid sy terwyl haar oë toeval. Hulle kom eers in die vroeë oggendure by hulle bestemming aan. Hulle gasheer wag vir hulle. “A, Petrus!” Hy gee hom ’n stywe druk en soen albei wange. “Ek is so bly om jou te sien. En uiteindelik ook jou vrou.” “Aangename kennis, Hassan,” sê sy vriendelik. “Jy is so welkom hier. Petrus se vrou moet ’n buitengewone mens wees.” Hulle word na hulle kamer gelei deur smal gangetjies, gehul in die stilte en donkerte van die vroeë oggendure. “Eers moet julle slaap. Later vanoggend eet ons ontbyt en dan kan ons al die nuus uitruil,” sê Hassan. Dit is so ’n verligting om ná amper vier en twintig uur op ’n bed te kan neersak.
Toe Salomé wakker word, is Petrus al weg. Sy vind hom, Hassan en ’n vrou diep in gesprek gewikkel om die ontbyttafel in die eetsaal en word voorgestel aan sy vriendelike vrou Nahed. Toe sit Hassan die gesprek voort. “Sedertdien bel hulle Saleh en teister haar.
Hulle het natuurlik haar nommer op Ashraf se foon gekry. Dan vertel hulle haar watse gruwelike goed hulle aan Ashraf gaan doen as sy nie die seuntjie oorhandig nie. Ander kere eis hulle ’n losprys. Hulle vra vyf honderd duisend dollar.” Petrus kyk op. “Hassan vertel van Saleh se man wat weer deur sy broers gevang is.” “Weet julle hoe dit met hom gaan?” vra Salomé. “Geen idee nie. Ons weet net wat hulle vir ons sê en ons kan hulle nie vertrou nie,” antwoord Hassan. “Wat gaan julle doen?” vra Petrus. “Wel, ek het al geleer dat ’n mens nie hierdie booswigte se speletjies speel nie. Jy raak later verstrengel in ’n bose kringloop. Ons het nie geld vir ’n losprys nie. Ons gaan nie die kind ruil nie. Punt.” Petrus knik. “En Saleh …?” “… is ’n wrak,” voltooi Nahed die sin. “Dis erg,” sê Petrus. “Ja, ons bid almal vir ’n goddelike uitkoms, maar hierdie storie duur nou al twee maande,” sê Nahed moedeloos. “Is julle seker hy lewe nog?” vra Petrus. “Nee, maar hulle het hom ’n ruk gelede oor die foon laat praat. Toe het hy net vir Saleh gesê hy is jammer,” antwoord Nahed. “Jammer waaroor?” vra Petrus. “Jammer dat hy na die opstand op Tahrir-plein was. Sy het hom gesmeek om nie te gaan nie, gewaarsku dat dit te gevaarlik is,” vertel Nahed. “Kan julle nie na die polisie toe gaan nie?” vra Salomé. Hassan snork minagtend. “Watter polisie? Ons veiligheidspolisie het saam met
Mubarak van die toneel af verdwyn en nou het ons net militêre polisie wat die land onder beheer moet hou. Op die oomblik maak elkeen net soos hy goeddink. Ons het die saak wel gaan aanmeld, maar weens die aard van die familietwis word dit nie ernstig opgeneem nie. In hierdie land neem die Moslem-families dikwels reg in hulle eie hande om die ‘afvalliges’ by te kom. Niemand kyk skeef op daaroor nie. Nee, ons saak is sleg.” “Wat gaan julle doen?” vra Salomé bekommerd. “Ons bid, ons bid ernstig vir uitkoms. Dit is al wat ons nou kan doen,” sê Hassan. Hulle knik. “Dit lyk of Saleh enige tyd gaan knak,” noem Nahed bekommerd. “En wat van die vrou wat haar weggesteek het in die woonstel, waar die broer haar toe gevind het?” vra Petrus. “Miriam. Sy kuier op die oomblik by haar kinders in ’n ander stad. Ons dink dis veiliger vir haar daar tot die Here vir ons uitkoms gee,” verduidelik Nahed. “Kom ons praat oor die reis waarop ons gaan,” verander Hassan die onderwerp. “Ek is opgewonde om saam met julle ons pastore oor die hele land heen te gaan besoek. Ek wil hulle gaan moed inpraat ná die rewolusie. Baie van hulle is nog so bang, maar ons moet juis nou die tyd gebruik. Ons het nou ’n gulde geleentheid om die evangelie na die mense toe te bring.” Salomé se oog val op ’n jong vrou wat die eetsaal binnekom. Sy is skraal met gitswart hare wat lank teen haar rug afhang. Opvallend. Trots of eerder sterk? Sy loop baie regop met ’n baba op haar heup. Haar oë soek deur die saal en steek op Petrus vas, besef Salomé verras. “Hier is Saleh nou,” sê Hassan en hy wink haar nader. Die regop vrou kom huiwerig nader. Salomé kan nie anders as om haar grasie raak te sien nie. Die laaste reël van ’n gedig wat sy eenmaal gelees het, kom by haar op: They walk more straight, those who learn to walk beneath a weight. Hierdie vrou herinner haar daaraan.
Maar toe sy haar hand uitsteek om haar te groet is dit haar oë wat sterker opval: donker oë, seer oë. Dit voel amper asof Salomé haar ken. ’n Diep deernis vir haar kom lê in haar binneste toe hulle aan mekaar voorgestel word.
Langs Petrus sit die mooiste vrou wat Saleh al ooit gesien het. Sy het goudkleurige hare wat soos ’n manteltjie om haar skraal gesig hang, net bokant die skouers afgesny. Ek moet oppas om nie te staar nie, dink Saleh. Maar dis haar oë wat Saleh fassineer: blou soos die hemel met ’n helderheid en diepte daarin. Sy het ’n skoonheid wat niks met mode te doen het nie, ’n sagtheid. Saleh voel effe jaloers. “Ek het so baie van jou gehoor,” sê Salomé vriendelik. “En ek is so bly om jou uiteindelik te kan ontmoet.” Ja, Petrus se vrou sal alles wees wat opreg en edel is, dit kan nie anders nie. Dit pas, dink Saleh toe sy haar kop in ’n nederige groet knik. “Ons is so jammer om te hoor wat met jou man gebeur het.” Petrus sê dit met soveel opregtheid dat haar hart ruk daarvan. Weer knik sy net haar kop, te bang om te praat. “Kom sit hier by ons,” nooi Nahed. Nee! Ek gaan huil, skree Saleh se binneste. Maar sy gaan sit oorkant hulle en hou Emmanuel op haar skoot. “Jou baba is pragtig,” sê Salomé en steek haar vinger na hom toe uit. Hy gryp dit dadelik en druk dit in sy mond. Die ander lag. Toe sy haar vinger versigtig uit sy greep trek, steek hy sy handjies na haar toe uit. “Mag ek hom vashou?” vra Salomé. Nee! skree Saleh se binneste, maar sy laat hom tog gaan en gee só die klein bietjie sekuriteit wat hy haar gee prys. Sy is verras dat hy so maklik na Salomé toe gaan. Maar Salomé speel so oulik met hom. Dit is duidelik dat sy kinders ken.
Nou sit ek hier sonder my baba en moet my siel ontbloot aan hierdie sagte, warm mense van ’n ver land. “Saleh, is daar enige manier waarop ons jou kan help?” vra Petrus besorg. Julle kan vir my vyf honderd duisend dollar gee! skreeu haar binneste. Betaal sy losprys. Maar sy hou haar gedagtes geslote.
Salomé kyk op na die vrou met die gebroke oë. Saleh trek haar skouers op. “Julle kan vir ons bid,” sê sy met die mooie Arabiese aksent op Engels, skaam maar sterk. “Wat moet ons bid?” dring Petrus aan. Saleh wring haar hande en kyk af. “Dat God vir ons die uitkoms, die antwoord uit hierdie doolhof sal wys. Dat Hy iemand sal stuur wat die losprys kan betaal. En …” sy kyk op, “ek weet nie of dit te veel gevra is nie?” “Vra gerus,” moedig Petrus aan. “Dat ek en ook Ashraf nie ons geloof sal verloor nie. Dit is al wat ons oorhet, maar selfs dit voel nou vir my te min,” sê sy baie eerlik. Dit is of almal om hulle in die eetsaal verdwyn het en hulle groep vasgevang is in ’n borrel van tyd en ruimte. “Ons sal bid en ons sal vas,” sê Petrus simpatiek maar beslis. “God het nie van jou vergeet nie, Saleh.” Saleh knik. Sy glo Petrus. Sy glo hom meer as wat sy nou in God kan glo, want Hy voel baie ver. Maar sy kan niks meer sê nie. Haar keel is dik en seer van trane.
Salomé lê op die bed en ween letterlik. Sy kan nie aan Petrus die diepte van die seer in haar hart vir die jong vrou Saleh verduidelik nie.
“Dis verskriklik,” is al wat sy kan uitkry. Petrus vryf haar rug. “Dit is,” knik hy nadenkend. Net sodra sy dink sy het die trane onder beheer, kom dit weer in ’n stortvloed. “Ek weet nie mooi wat met my aangaan nie!” roep Salomé later uit. “ ’n Mens noem dit goddelike meelewing, of comion, soos die Engelse sê,” verduidelik hy. “Ek het al gesien dat wanneer sommige mense pas in ’n land aangekom het, daar so ’n weemoed of meelewing vir die mense van daardie land oor hulle kom. Dan kan hulle net nie ophou huil nie. Dis asof God iemand kies om sy trane oor daardie land of situasie te stort. Ek vermoed Hy het jou gekies om hieroor te huil, namens Hom.” Petrus hou haar vas. Hulle bid tot diep in die oggend, met Salomé wat kort-kort weer huil. Uiteindelik sak sy gedaan gehuil en óp gebid op die bed neer. “Lê ’n bietjie,” sê hy, “ek gaan by Hassan-hulle inloer.” “Gaan dit nie ongemanierd wees as ek nie saamkom nie?” vra sy met rooigehuilde oë. “Ek sal verduidelik. En ek dink in elk geval Hassan wil dalk ’n bietjie alleen met my gesels. Ek ken hom so.” Sy raak uitgeput aan die slaap en droom van engele wat ’n laer trek rondom die opleidingsentrum. Een bedien Saleh deur haar voete met olie te salf. Toe Salomé later wakker word, is sy getroos deur die droom. Sy moet onthou om vir Petrus te vertel.
Hoofstuk 38
EGIPTE. APRIL 2011
Die volgende paar dae voel dit vir Salomé of al haar sintuie in die hoogste rat werk om alles rondom haar in te neem: kleure, klanke, reuke. Wat sy van Egipte sien, is soveel anders as die stowwerige woestynland wat sy haar voorgestel het. Ja, daar is die woestyn, soos by die opleidingsentrum. Maar ook die helder bougainvilleas wat in skerp kontras met die barheid om hulle uitspattig hulle sluiers oor die mure heen drapeer. Sonder skaamte helder. In Kaïro is dit vuil en tog het die stad sjarme. Die nimmereindigende verkeer wat tussen die hoë geboue deurbeur, word afgewissel met die vrolike verkopers by stalletjies wat heldergeel lemoene in sakke buite winkeltjies ophang, en die luidrugtige geroep van mense klink heen en weer oor die strate. Oral sien ’n mens die helder kopdoeke van vroue wat tussen die massas rondskarrel. Die lig is skerper hier. Baie van die geboue is halfklaar, maar reeds bewoon. ’n Stad in aanbou. “Dit is omdat hulle ekstra belasting moet betaal wanneer die gebou klaar is,” verduidelik Hassan. “Nou maak hulle dit leefbaar maar net-net nie klaar nie, dan hoef hulle dit nie te betaal nie.” Hulle ry in ’n tipiese toerbussie deur die strate; ’n dekmantel vir hulle komende besoeke aan evangeliese pastore en Koptiese Christene. Omdat die groepie so klein is, kan hulle maklik rondbeweeg: Hassan en Nahed, sy en Petrus en Saleh, vir wie hulle oortuig het dat sy en klein Emmanuel moet saamkom.
Saleh wou nie saamkom nie. Sy was bang om uit te gaan, bang sy word herken, bang om ver van Ashraf af te wees. Wat as hy ’n manier vind om by die sentrum uit te kom? Wat as …? Maar Hassan en Nahed sê hulle vermoed sy broers het
teen hierdie tyd al uitgevind waar sy wegkruip. Daarom is dit veiliger vir haar en die baba om aan die beweeg te bly. Hulle sou steeds die oproepe op haar selfoon kon monitor en buitendien is dit die eindelose gewag op nuus wat haar onderkry. Hulle is reg, dit maak haar dood. Sy staar deur die bussie se venster na die bekendheid om haar, weer vermom soos ’n toeris met ’n denim en ’n keps. Emmanuel slaap lekker in sy drabedjie. Die beweging van die bussie sus hom. Haar binneste word al hoe stiller terwyl hulle ry en ry. Dit plaas ure se afstand tussen haar en die opleidingsentrum, waar dit voel of sy haar in veilige gevangenskap bevind het. Sy sit agter in die bussie en hou haar besig met haar eie gedagtes, bid, bid weer desperaat, maar tog getroos op ’n manier. Almal laat haar begaan. Hulle was reg. Dit help.
Salomé wens sy kon meer met Saleh kommunikeer; sy hou haar so eenkant. Sy antwoord net die nodigste, vriendelik, maar trek dan weer terug in haar dop van stilte. Salomé moet erken die prentjie van hierdie vrou is anders as die prentjie wat sy van die “vervolgde kerk” gehad het. Sy voel jammer vir haar, maar Saleh is nie bejammerenswaardig nie. Die jong vrou het ’n innerlike krag, maar ook ’n weerloosheid, wat Saleh verstom. Sy probeer haar verstaan. Saleh sit die meeste van die tyd agter in die bussie met wat lyk soos haar Bybel oopgeslaan op haar skoot. Heeltyd prewel sy sag; seker gebede, onophoudelike gebede vir haar man, vermoed Salomé. Haar seuntjie is so oulik en soet, net drie maande oud. Hassan en Nahed is joviaal en maklik om mee oor die weg te kom. Duidelik is hulle gewoond daaraan om mense heeldag en aldag met ’n nederige gasvryheid rondom hulle te akkommodeer. Hulle is fyn ingestel op enige behoefte wat hulle gaste kan hê. Veral aan eet- en drinkgoed is daar geen tekort nie. “Die vleispotte van Egipte,” spot Hassan dikwels as hulle kapsie maak en sê hulle word vet gevoer. “Selfs die Jode het daarvoor geval.” Uit die stories wat Petrus haar oor hulle ontberings vertel het, weet Salomé dat hulle nie ’n oppervlakkige Christenskap beoefen nie. Hulle het al oor en oor die prys betaal. Tog is hulle blymoedig en vrolik terwyl hulle weer eens ’n waagstuk onderneem om die pastore te gaan besoek en bemoedig. Dit is hierdie blymoedigheid wat haar verras. Sy het op ’n manier verwag dat hulle in hierdie omstandighede verslae en depressief sal wees.
Die oudio-Bybels is steeds in hulle tasse versteek. Hulle hoop om dit by elke besoekpunt in die hande van ’n pastoor te kan gee, wat dit weer met wysheid sal versprei. Hulle is op pad na hulle eerste besoek aan ’n Koptiese Kerk. Tans vier hulle Paasfees, net soos die kerke van die Westerse wêreld. Dit gebeur nie dikwels dat die Paasfees-datums van die Oosterse en die Westerse se kerke saamval nie. Salomé is opgewonde om Petrus se wêreld beter te verstaan. Sy het hom nog selde by ander so tuis gesien, so in sy element, so gerespekteerd, so … reg. Die toerbussie is opvallend toe hulle uiteindelik in Asuyt stilhou. Hassan het vertel dat toerisme sedert die rewolusie heeltemal opgedroog het en daarmee saam die groot aantal mense wat van toerisme afhanklik is se inkomste. In die middel van die dorpsplein is ’n deurmekaar trop bokke en skape wat aan ’n hoop vars blare staan en vreet. Hier en daar staan ’n verweerde donkiekarretjie. Oral skarrel gekopdoekte vroue wat onderlangs na hulle loer. Mans in wit of grys of roomkleurige rokke – wat Hassan sê hulle gallibayas noem – sit rond en staar openlik na hulle. Wasgoed hang van verouderde woonstelgeboutjies af en baniere in Arabies hang skeef oor die straat. Hier en daar staan ’n motor wat uit die vorige eeu dateer en snaakse driewielmotorfietse. Salomé maak vinnig haar ligte hare met ’n kopdoek toe, soos dit die gebruik is vir vroue in hierdie land. Saleh lyk gespanne toe hulle uitklim, en Salomé gaan loop langs haar. Terwyl hulle hulle wielietjiestasse oor stofpaaie vol erosieslote probeer sleep, staar kinders met vuil gesiggies hulle aan. “Amerikaans? Amerika?” vra die kinders op Engels. “Nee.” Petrus gaan staan by hulle en steek sy hand in sy broeksak, voorbereid met ’n hand vol lekkers wat hy na hulle uithou. “Suid-Afrika. Nelson Mandela? Bafana Bafana?” “Bafana Bafana!” roep hulle opgewonde en vat die lekkers met vuil handjies. Petrus knik en glimlag, vryf oor ’n paar koppe. Die kinders hardloop met hulle buit weg. “Bafana Bafana!” roep hulle. Salomé glimlag. Amerikaners is nie gewild in hierdie deel van die wêreld nie en met hulle wit velle is hulle dadelik onder verdenking. Maar dankie tog vir
Bafana Bafana!
Toe Saleh besef hulle gaan in ’n Koptiese klooster tuis, huiwer sy voor die hek met die krulle en draaie van smeeyster. Haar teenwoordigheid hier kan gevaarlik wees vir al die inwoners. Sy kyk vraend op na Nahed. “Dit sal nie wys wees vir my om hier tuis te gaan nie.” “Nee wat. Ons het by biskop Natanael seker gemaak en hy het ons verseker dat jy baie welkom is onder hulle dak.” “Ek wil nie die oorsaak wees van ongelukkigheid of opstande nie,” keer sy weer. “Ek weet, maar jy is deel van die toergroep, net soos ons. Niemand hoef te weet van jou herkoms nie,” verseker Nahed haar weer. Tog, kloosters en Koptiese Kerke is al hier afgebrand omdat hulle daarvan beskuldig is dat hulle gelowiges uit ’n Moslem-agtergrond gehuisves of weggesteek het. Saleh voel nie baie gemaklik nie, maar volg nietemin. Hulle word deur vriendelike nonne in grys rokke en kopdoeke welkom geheet en na hulle kamers geneem. Haar kamer is langs Petrus en Salomé s’n. ’n Yslike kamer vol smal enkelbedjies, maar dis net sy en Emmanuel. Dit is ’n verligting om haar goed te kan neersit en Emmanuel gemaklik te maak. Sy gaan lê op die klipharde kateltjie en maak haar oë toe. Ashraf!
Salomé en Petrus lag hardop toe hulle op die enkelbedjies gaan sit. Dit is kliphard. “ ’n Regte kloosterbed,” besluit Petrus. “Ek sal nie eens langs jou kan lê nie.” “Ja-nee, ek het nooit gedink ons sal eendag in ’n klooster slaap nie,” lag sy. Hulle word soos besoekende ministers van ’n ver land op die hande gedra, dink Salomé later toe hulle in die eetsaal sit. Bakke en bakke vol kos word op die lang etenstafel neergesit en hulle word deur
die nonne bedien. Petrus, Hassan en biskop Natanael is in ’n diep gesprek gewikkel oor die situasie in die land en in die kerk ná die rewolusie. Salomé luister belangstellend. Hulle het gehoop dat daar ná die rewolusie godsdiensvryheid sal wees, maar net twee dae gelede was daar weer aanvalle in hulle dorpie. Christene se huise is afgebrand en die mense is vermoor. Salomé word bang as sy dink hoe blootgestel hulle is. Die Koptiese kerkie is in die middel van die dorpie, omring deur moskees. As hulle boonop uitvind wat Saleh se agtergrond is, is dit ’n goeie rede om amok te maak. Ná ete gaan maak almal gereed vir die Paasfeesdiens. Honderde mense stroom later die katedraal binne. Salomé verkyk haar aan die prente van heiliges en vreemde simboliek wat oral teen die mure aangebring is. “Dit voel soos ’n Katolieke kerk,” fluister sy bekommerd vir Petrus soos hulle in die gang afloop. Hy knik. “Maar onthou, hulle is regtig lief vir Jesus. Probeer verby die vreemde gebruike kyk.” Hy gaan sit tussen die mans. Sy en Nahed word deur die nonne na die vrouebanke gelei. Daar is vir hulle heel voor plek gehou. Saleh het verkies om in die klooster agter te bly met Emmanuel. Sy het gereken dit is veiliger vir almal. Dit word ’n diens van tussen drie en vier uur lank – onverstaanbare simboliek en beurtsang in die argaïese Koptiese taal. Aanvanklik probeer Salomé nog sin maak uit dit wat Nahed onderlangs verduidelik, maar later probeer sy net byhou met wanneer om te staan en wanneer om te sit. Uiteindelik kom die biskop met ’n gevolg in. Van die mense dra simbolies versierde baniere op lang pale en oral is kerse aangesteek. Die biskop dra ’n swaar kleed en hooftooisel, blykbaar gemaak volgens die voorskrifte van die kleed van Aäron in die Bybel. Sy wens sy kon meer verstaan, maar klaarblyklik verstaan amper net die biskoppe die Koptiese taal. Die gemeente weet egter waar hulle beurtsang moet sing en almal doen in gewydheid mee. Salomé se gedagtes dwaal na haar kinders. Sy was dankbaar om SMS’e van haar sus en die kinders te kry dat hulle heerlik kuier, geen probleme nie. Eintlik dink sy die bietjie tyd weg van mekaar doen hulle almal dalk juis goed. “Sal Mamma ook doodgaan soos die ander mense in die kerk?” het Talitha gevra
voor hulle weg is. Salomé dink aan Kersfees se bomaanval en besef hulle is nou weer so ’n teiken, met soveel Christene saam in een gebou. Beskerm ons Here, bid sy. Beskerm al u kinders hier bymekaar – ons uit die Weste en al hierdie Kopte wat ook u kinders is. Sy is doodmoeg ná die lang dag op pad. Die ligte is afgeskakel en net die kerse brand. Ook die sang het eers sag geword en is nou heeltemal stil. Salomé se gedagtes dwaal op hulle eie paadjies. Sy leun swaar op die houtreling voor haar. Die volgende oomblik is daar ’n geweldige slag. Salomé gil en val onmiddellik plat. Om haar het die ligte helder aangegaan en almal juig. Sy loer van onder die bank na wat aan die gang is en staan verward weer regop. Skaam kyk sy na Nahed wat haar met pret in die oë bekyk. “Wat het nou gebeur?” fluister Salomé verward. “Die donker was die dood, en toe die ligte aangaan, het Jesus opgestaan,” verduidelik Nahed laggend. Salomé se hart hamer in haar borskas en sy bloos tot agter haar ore toe sy besef wat ’n gek sy van haarself gemaak het. Sy het haarself so bang gedink dat sy nou skoon belaglik gereageer het. Daarna kom ’n hele afvaardiging die gemeente besoek. Die Moslemburgemeester groet hulle en kom betoon sy respek vir die Paasfees wat die Christene vier. Salomé voel veiliger met hom in die gebou. Sy hou die lyfwagte en gevolg dop vir enige snaakse bewegings sodat sy weer onder die bank kan induik indien nodig! As Petrus net hier langs haar was. Uiteindelik groet die belangrike gaste ná ’n lang relaas en die laaste deel van die diens gaan voort. Salomé se voete sleep behoorlik toe hulle uiteindelik klaar is. Sy sien nou baie uit na die klipharde kloosterbedjie wat vir hulle wag. “Nee,” keer Hassan toe sy kamer toe wil mik. “Nou word daar feesgevier. Hierdie mense het die hele dag gevas en nou eet hulle eers almal saam.” Petrus het haar gelukkig vooraf geleer oor kulturele sensitiwiteit. Sy stoot haar eie behoeftes opsy en word deel van die groot groep gaste aan biskop Natanael
se tafel. Mense wat gebroke Engels praat, kom skud hulle hand en vertel hoeveel waardering hulle het vir hulle besoek in hierdie gevaarlike tye. Moeilike gesprekke om te volg, maar met ’n glimlag en baie geduld staan sy en Petrus tot laatnag en praatjies maak. Hulle val neer op die harde bedjies, maar daar kom geen rus nie. Pas ná die klooster uiteindelik stil geword het, begin die minarette met geweldige ywer roep. Die luidsprekers is duidelik gerig op die klooster en sekerlik presies die hoogte van hulle kamervenster, dink Salomé met haar kop onder die komberse terwyl die minarette oorlog maak: “Laa-ilaaha illa Ilaah, Muhammed resolu’lla!”
Vroegoggend is dit weer die minarette wat hulle wakker roep. Petrus vat haar hand. “Kom, trek gou aan.” “Waarheen gaan ons?” “Dak toe. Dis Opstandingsondag. Kom ons gaan kyk na die sonsopkoms.” Hulle trek warm aan en klim die trappies tot by die deur na die dak. Die dag is nog grys, maar stadig kom die son op en die minarette word stil. Warm staan sy in Petrus se arms terwyl hy bid vir hulle, vir elke verlore siel in die dorpie rondom hulle. Hy bid vir beskerming van die Christene in hierdie dorpie en vir die wonder van Jesus wat opgestaan het, dat daardie opstandingskrag in almal sal werk. Hy bid vir hulle en hulle kinders se beskerming daar ver aan die ander kant van die kontinent. Salomé kan nie onthou wanneer sy laas so veilig gevoel het nie, omring deur die bose magte wat moet toekyk hoe die son elke dag weer opkom en die duisternis verdryf; hulle kan dit nie keer nie. Die lig verdring telkens weer die duisternis. Sy sou nou op geen ander plek op aarde wou wees as hier in haar sterk man se arms nie. Dit voel of sy saam met hom ’n oorwinning behaal het oor iets waaraan sy nie help veg het nie. ’n Vreemde gewaarwording. Oorkant hulle begin die lig goudkleurig op die kruis aan die bopunt van die
Koptiese katedraal skyn. ’n Duif fladder en gaan sit op die kruis. Sy en Petrus kyk ademloos toe. Die Here is hier! “Jesus het opgestaan,” groet Petrus haar met die eeue oue Paassondaggroet. “Ja, Hy het waarlik opgestaan,” antwoord sy soos die tradisie is, en dit is eg en waar. Salomé klop later met ’n koppie koffie aan Saleh se deur. Dié is reeds wakker en besig met Emmanuel. “Goeiemôre,” groet Salomé. “Geseënde Paasfees. Jesus het opgestaan.” “Ja,” sê Saleh, maar vervolg nie met die res van die groet nie. Saleh ken dit nie, besef Salomé. Sy het glad nie met hierdie erfenis grootgeword nie. Sy kry Saleh weer intens jammer. Miskien weet Saleh nie eens met wat ’n armoede sy saamleef nie. “Het julle lekker geslaap, Saleh?” “Nee,” antwoord Saleh ernstig. “Dit was oorlog.” “Ja, jy verwoord dit reg. Maar ek sou dink jy is eintlik gewoond daaraan?” “Die minarette? Ja, almal in Egipte seker al daaraan gewoond. Maar wat gisteraand hier gebeur het, is nie net ’n gewoonte nie, dit was ’n oorlogsverklaring.” “Maak dit jou bang?” “Nie vir myself nie. Wel vir die Koptiese Christene wat hier agterbly. Hulle is so blootgestel in die middel van hierdie dorpie. So onbeskermd. Dit vat net een kannetjie petrol en een vuurhoutjie …” “Maar hulle doen sulke goeie opheffingswerk hier. Ons gaan vanoggend juis na ’n kinderhuis kyk en dan is daar ook die kliniek wat hulle bestuur, en so aan. Die mense sal hulle sekerlik nie skade wil aandoen nie?” Ek probeer myself troos, weet Salomé.
“Ja, dit sal die enkelinge aanraak en ’n paar laat wonder oor Christenskap. Maar dag vir dag word verkondig dat enige geloof buiten Islam dwaasheid is. En om die ‘geloof’ te versaak verdien die dood. Die mense is bang. Hulle word deur vrees beheer, en vrees is ’n sterk mag. Tog bly die Kopte hier; dit is regtig bewonderenswaardig.” “Ja, dit is. Hulle leef dit regtig uit om hulle vyand lief te hê.” “En dit kan ’n Moslem nie verstaan nie, glo my. Hulle verstaan goeie werke en liefdadigheid. Maar hulle begryp nie hierdie onvoorwaardelike liefde nie. Ek wonder soms of mense besef hoeveel haat en vrees die basis van Islam vorm,” sê Saleh nadenkend.
Hoofstuk 39
EGIPTE. APRIL 2011
Op die lang pad tussen Asuyt en Luxor sit Saleh met die oorfoontjies van ’n oudio-Bybel in haar ore. Salomé het vir haar een present gegee. Saleh kan nie glo dat sy nou die Ou Testament ook kan luister nie. Verstom luister sy na die eerste boek van die Bybel, hoe God alles geskep het. Sy hoor hoe Hagar na die woestyn gejaag is met Ismael. Hy was nooit die kind van die verbond soos Islam beweer nie, Isak en sy seun Jakob was. Hoe vreemd is dit egter dat God hulle volk eers verwerp en haar dan later met die hand kom uitsoek om te red. Sy het so baie vrae. Later sal sy vir Petrus en Hassan vra. Hulle laat haar in vrede terwyl sy met haar oorfone agter in die bussie sit. Emmanuel slaap heerlik en sy kry baie tyd vir luister en bid. Hulle het selfs polisiebegeleiding op die lang verlate pad. Toeriste het ná die rewolusie so ’n skaarste geword in Egipte dat die polisie hulle wil laat veilig voel. Hulle het die toerbussie gesien en sedertdien is hulle spontaan begelei. Sy is dankbaar vir die bussie se getinte glasruite, dat niemand van buite haar gesig kan sien nie, net vir ingeval … Sy is bang vir Luxor, bang sy kom te naby aan haar skoonfamilie, bang Ashraf is dalk daar en dat sy dit nie eens sal weet nie. Moet sy na hom gaan soek? Moet sy haar skoonmense gaan konfronteer? Sal Hassan en Petrus haar help? Durf sy dit van hulle vra? Al die gedagtes maal deur haar kop soos hulle ry. Net voor die stad flits die polisie hulle ligte om aan te dui dit is die einde van die begeleiding. Die bussie stop uiteindelik by die pastoor van ’n evangeliese kerk in Luxor. Hoewel haar skoonfamilie aan die ander kant van die stad woon, klim Saleh steeds behoedsaam uit die bussie en bly in die middel van die groep. Hierdie stad van tempels het haar eintlik nog altyd koue rillings gegee. In die verte sien sy die majestueuse pilare van die Karnak-tempel waar Aten deur die farao’s aanbid is. Sy mis die bekende geklingel van die klokkies van
perdekarretjies wat toeriste rondry. Saleh het die predikantspaar destyds by die opleidingsentrum ontmoet en dis ’n blye weersiens. Hulle is saam opgewonde oor Emmanuel. Die predikant gaan wys hulle waar die kerkgebou tot onlangs nog gestaan het, nou egter gelykgemaak met die aarde. Dit en die woonstelgeboue waar die meeste van sy gemeentelede gebly het. “Die owerhede het, sonder kennisgewing en sonder vergoeding, net op ’n dag gekom en verklaar dat hierdie gebied nou ’n toeristeloopgang word wat die bekende antieke opgrawings met mekaar verbind. Die stootskrapers het eenvoudig begin platvee wat voorkom. Ons het egter geweet dit is met ’n verskuilde agenda; hulle weet die Christene woon hier. Van my gemeentelede het selfmoord gepleeg,” vertel hy met droefheid diep op sy gesig afgeëts. “Hulle het nie ’n heenkome gehad nie en ek neem aan die jare lange vervolging en druk op hulle het net te veel geword.” Hy vee die trane op sy wange weg. “Toe hulle die volgende woonstelgebou oormerk, het ons begin bid en vas. Drie dae later is die maatskappy bankrot verklaar en staan die werk stil, soos julle kan sien. Ons glo in die krag van gebed,” verklaar hy met ’n lig in sy oë. Hulle eet saam en Saleh word getref deur die feit dat hulle die beste van die min wat hulle besit vir hulle gaste voorsit. Hulle bid en sing saam in die gebroke Engels wat hulle ken en sy ervaar ’n eenheid en ’n tuiskoms soos selde tevore: haar mense! Saleh se gees is verryk deur die nederige en vriendelike pastoor. So ontuis soos sy by die Kopte gevoel het, so inspirerend ervaar sy die evangeliese kerke. Hulle is so bly oor die oudio-Bybels wat hulle gaan uitdeel aan die gemeentelede wat nie kan lees nie. Die predikant luister verstom na die Woord op die spelertjie. “O, wat ’n wonderlike, lewende geskenk.” Hulle gaan slaap laatnag, moeg maar versterk deur mekaar se nabyheid en geloof.
Die ander is weg na die mark in Luxor, maar Saleh sien nie kans om in die strate rond te dwaal en moontlik bekendes se oë op haar te vind nie. Sy en Emmanuel het agtergebly. Hy slaap rustig toe haar foon lui. Sy vries: ’n onbekende nommer.
“Het jy al die geld?” vra die stem toe sy huiwerig antwoord. “Nee, ek het jou gesê ek het dit nie en kan dit nie kry nie,” sê sy met meer selfvertroue as wat sy voel. Moenie hulle speletjie speel nie, het Hassan haar oor en oor aangemoedig. “Dan gaan ons Ashraf vrek skiet.” “Dood beteken hy niks vir jou nie.” Sy probeer kalm bly. “Ek sal hom ruil vir die baba.” “Dis nie ’n opsie nie.” Sy moet tyd wen! “Kom ons gesels om ’n tafel en dan kan ons probeer verstaan …” “Ons is nie lus vir geselsies nie. Kry die geld of ek laai jou man se lyk op jou voorstoep af. Ek weet waar jy bly. Ons gee jou nog ’n week, maar dan is ons geduld op.” “Hoe weet ek Ashraf is nie klaar dood nie!” Maar hy het klaar afgelui en haar stem weerklink hol in die kamer om haar. Ag, Vader, wat gaan ek doen? Sy sak bewend op die bed neer. ’n Week! Die koue vrees wat effens begin skietgee het die afgelope dae, kom klou weer om haar hart. Die woorde van die pastoor van die evangeliese kerk kom helder in haar gees op: Ons glo in die krag van gebed. Saleh sak op haar knieë neer en bid tot sy die Gees se vrede oor haar voel kom. Sy is nie seker hoeveel tyd verloop het nie, maar uiteindelik ervaar sy diep in haar gees die woorde: My genade is vir jou genoeg. Dit kos geloof om dit te glo, maar hieraan sal sy vandag vashou.
Die volgende dag vertrek hulle verder Nyl-op, na die laaste twee gemeentes wat hulle gaan besoek in Esna en Edfu. Hulle gaan na hierdie twee dorpies as deel
van ’n groep wat ’n dagtoer per boot onderneem. Terwyl die ander toeriste die plaaslike tempels en besienswaardighede gaan besoek, sal hulle die gemeentes besoek. Saleh moet elke nou en dan die knoop op haar maag oor Ashraf met ’n gebed van geloof gaan losbid. Sy smeek by God vir sy lewe. Dit is al wat werk om haar nie histeries te laat uitskree nie. Vroegoggend het sy weer ure op haar knieë deurgebring en sien nou uit na die vars buitelug om haar kop skoon te kry. Toe hulle verby die Jewel of the Nile stap, sien sy dadelik vir Farouk. Hy was die buitekant van die boot. Sy wink vir Petrus nader en vra of hy saam met haar sal stap. “Daardie man het my weggesteek en Ashraf uit die water gered. Ek wil hom net graag gaan groet.” “Sekerlik. Ek stap saam.” “Farouk!” roep sy sag na hom. Hy kyk verras op, glimlag toe hy hulle sien en stap nader. “Saleh! En jou baba! Dit is wonderlik om julle te sien.” “Ons is ons lewe aan jou verskuldig. En dit is Petrus, ’n vriend uit Suid-Afrika.” Só sal Farouk verstaan dat Petrus ook ’n Christen is. “Aangenaam,” groet Petrus en hulle skud hand. “Ek wou jou net persoonlik kom bedank vir alles wat jy vir ons gesin gedoen het,” sê sy sag. “Dit was ’n voorreg,” sê hy nederig. “Waar is Ashraf?” Farouk kan net sy kop skud toe sy klaar vertel het. “Ai, Saleh! Ek is so jammer.” “Is jy nie kwaad vir hom nie, ná al die maande wat jy hom aan die lewe gehou het?” Hy glimlag skeefweg vir haar. “Is jy kwaad vir hom?” Sy is eers stil. “Kan ’n mens kwaad wees vir iemand as jy nie eens seker is dat
hy lewe nie?” antwoord sy verwese. “Nee, ek is nie kwaad vir hom nie,” sê Farouk. “Dit sal nie regverdig wees nie, Saleh. Solank ons in hierdie land woon, moet ons gewoond raak dat daar ’n broer of ’n pa of ’n vriend is wat nie met ons oortuiging saamstem nie. Dit is deel van dit waarvoor ons aangemeld het toe ons ’n oorgawe gemaak het. Dit gaan nie binnekort verander nie, dus moet ’n mens so gou moontlik vrede maak daarmee en sin maak daarvan.” Saleh luister stil. “Ek sal saam met jou Boontoe kyk vir uitkoms, Saleh.” “Dankie, Farouk. Mag jy en jou gesin ryklik geseën word vir alles wat julle vir ons beteken.”
Die eerste gemeente is in die oewerdorpie Esna. Die pastoor wil eers nie hê hulle moet na sy kerk toe kom nie. Dit is te gevaarlik, reken hy, hy sal hulle liewer by die hawe kom ontmoet en elders gaan gesels sodat sy bure nie kan sien nie. “Nee, dit was mos rewolusie,” keer Hassan. “Ons moet leef in die vryheid van die tyd. Ons moet dapper wees en die evangelie juis nou verkondig.” Salomé verstom haar aan sy vreesloosheid. ’n Jong seun kom ontmoet hulle stil-stil by die hawe en neem hulle deur stowwerige straatjies met vuil kindergesiggies wat verwonderd na hulle kyk. Hulle stap na ’n geboutjie. Binne is ’n bang predikant. Daar is miskien ses of sewe gesinne in sy gemeente, vertel hy. “Die mense is te bang om kerk toe te kom. Die onderdrukking hier is baie erg. Hulle kom net wanneer daar probleme is of as hulle nood het. Dit is baie moeilike tye.” Salomé kry die man uit haar hart jammer. Petrus en Hassan wat vir hom tolk, praat so mooi met hom, bemoedig en bid vir hom. Hulle gee vir hom ook ’n oudiospeler en dit is asof ’n lig in sy oë aangaan
toe hulle vir hom wys hoe dit werk. Hy is so opgewonde. “Hulle sal beurte maak om daarna te luister; só kan almal die Woord hoor. Dit sal hulle versterk om kerk toe te kom en hulle lig te laat skyn in hierdie donker wêreld. Miskien sal hulle selfs ander saambring sodat ons gemeente kan groei,” verklaar hy. Hulle vertrek na die hawe, maar hierdie keer stap die predikant openlik saam met hulle. Hy bedank hulle oor en oor. “Dit is die eerste keer dat ander Christene my kerk kom besoek,” sê hy bewoë. Salomé is diep aangeraak deur sy skielike dapperheid. En dit ná net een besoek? Die volgende stop is in Edfu. Daar ontmoet hulle ’n ouer pastoor en sy liewe vrou. Hoewel hulle reeds dertig jaar in hierdie bediening is, het hulle ook nog nooit gaste van ander gemeentes gehad nie, wat nog te sê van buitelanders. Salomé kan sien hulle het hulle beste klere aangetrek en die baie klein kamer waar hulle kerk hou, is so skoon, jy kan van die grond af eet. In nederigheid vertel hy van hulle werk en hulle gemeente. Tussen vyftien en vyf en twintig mense woon die dienste by. Ná dertig jaar het hulle nie ’n groot gemeente of ’n pragtige kerkgebou nie, maar hulle straal van dankbaarheid oor God se goedheid. Hulle het ’n Christenkoerant begin wat hulle stil-stil versprei in die hoop dat die evangelie só die mense sal bereik. Hassan gee vir hom ’n geldelike bydrae om die koerant aan die gang te kan hou, asook oudiospelers. “Hoe wonderlik is God,” verklaar die predikant in verwondering. “Dat Hy vir ons sy stem stuur om na te luister.” Hulle is ’n stil maar tevrede groepie wat laatmiddag op die dek van die boot sit en kyk na die son wat sak. Die euforie van die oomblik maak dat Salomé later met ’n glimlag kyk na die son wat sak. Wat ’n belewenis! Hoe diep is sy nie geraak deur die mense wat sy ontmoet het nie. Die “vervolgde kerk” het skielik gesigte, name, stories. Dis lewend.
“Waaraan dink jy?” vra Petrus met ’n glimlag. “Ek dink aan almal wat ons ontmoet het. Dankie dat jy my saamgesleep het, Petrus. Dit is werklik wonderlik om hierdie mense te kan ontmoet. Ek het so ’n ander prentjie van die kerk hier gehad, maar nou is dit gesigte en name. Dit maak so ’n groot verskil in hoe ’n mens vir hulle kan bid.” Hy vat haar hand, iets wat ’n mens nie gewoonlik hier in die openbaar kan doen nie, maar op ’n toeristeboot is dit aanvaarbaar. “Ek is so bly jy is hier, Sally. Ek wens ek kan die hele kerk in Suid-Afrika ook saam met my hierheen bring dat hulle kom leer en verstaan.” Sy knik. Die vreedsame stilte wat hulle omvou, laat haar wens dat die reis nooit moet ophou nie. Van wat hulle hoor, geniet die kinders die kuier by haar sussie. En dit voel of sy en Petrus weer op hulle wittebrood is, nes Lilly voorspel het. Hulle het skielik soveel gesels- en saamwees- en verstaantyd dat sy hom van voor af bewonder vir wie hy is en wat hy doen. Maar helaas het die tyd uitgeloop. Die lang pad terug na Kaïro lê voor. Daarna is dit na die opleidingsentrum toe vir ’n laaste dag of wat en dan is hulle weer op pad terug huis toe. Die gewigtigheid van Saleh se situasie is egter ’n chroniese bekommernis vir hulle almal. Sy kan Saleh se geweldige eensaamheid aanvoel en hulle het al ure deurgebring om vir die situasie te bid en te dink oor ’n oplossing. As hulle net die geld kon bymekaarskraap. Maar sy besef Hassan is reg as hy sê dat ’n mens nie hierdie speletjie eers moet begin saamspeel nie, anders sal Ashraf se broers vir altyd ’n houvas op haar hê. Maar dit is haar man se lewe wat in die weegskaal is … Daardie aand toe sy en Petrus klaar gebid het, vir Saleh in die besonder, vra hy: “Ken jy die gesegde: Die bloed van martelare is die saad van die kerk?” “Nee?” antwoord Salomé. “Vader Tertullianus het hierdie stelling in die tweede eeu gemaak. Dink maar aan Stefanus, die eerste martelaar, wat in Jerusalem gestenig is. Tot voor hy gestenig was, was die kerk tevrede om net in Jerusalem te bly. Daarna het die Christene bang geword en gevlug. Só het die evangelie begin versprei.”
“Ek verstaan,” knik Salomé. “Dieselfde het gebeur met die Franse Hugenote wat destyds uit Europa moes vlug. Toe het die evangelie ook deur die wêreld versprei. Dit is vandag nog so. Dit lyk asof dit deel uitmaak van God se plan om sy kerk te versprei, hoe min dit ook al vir ons sin maak. God is soms radikaal; die martelare wys deur hulle onselfsugtige lyding as ’t ware die bloederige, wrede kruis van Jesus aan die hele wêreld. Jy het self gesien dat hulle ons nie vra om hulle jammer te kry nie. Hulle vra dat ons vir hulle bid om die stryd tot die einde toe te kan stry. Soos Jesus bang was vir die kruis, is hulle maar ook bang.” Daar kom ’n eienaardige stilte in Salomé. “Ja, ek kan dit verstaan. Maar wat het jou nou daaraan laat dink?” “Toe ons nou vir Ashraf en Saleh gebid het, het dit by my opgekom.” “Bedoel jy dat as hy dalk doodgaan, sy bloed soos saad in die grond sal wees?” vra sy versigtig. “Ek weet nie Sally. Ek weet net die situasie lyk nie goed nie.” “Dalk moet Saleh dan tog landuit vlug, soos die Franse Hugenote?” sê-vra sy. “Ja, ek het ook al gewonder of ons haar daarmee moet probeer help. Hassan voel egter sterk dat die kerk nie uit Egipte moet vlug nie, maar juis hier moet bly om ’n lig te wees. Om te gaan na waar dit veiliger is, beteken om te gaan na ’n plek waar die evangelie welkom is en reeds gehoor is. Wat is die groter doel daarmee?” “Ek verstaan dit, Petrus, maar ons praat van mense se léwe!” roep sy uit. “Ja, Sally. Maar hoe hard dit ook al klink, ’n mens se lewe is niks in vergelyking met die groter plan van God se Koninkryk nie.” “Soms is hierdie goed vir my moeilik om te verstaan,” bely sy. “Ja, vir my ook. Veral as die mense name en gesigte gekry het, want dan word dit al hoe moeiliker. Ai, en ek sien Saleh kry swaar.” “Ja. Ek verstaan iets daarvan om sonder my man reg te kom, maar nog nooit
moes ek met soveel onsekerheid soos sy saamleef nie. Dit eet haar lewend op.”
Op die lang, eentonige pad terug na Kaïro oordink Salomé hulle gesprek van gisteraand. Ek verstaan nie al hierdie goed nie, Here. Ek bely dat ons gerief en veiligheid vir my nog ’n vereiste is. Help my om u manier van kyk na die wêreld te kan begryp, Here. Wil jy regtig verstaan, Salomé? Wanneer die Here haar op haar naam noem soos nou, bring dit ’n warmte in haar. Ja, Here. Ek wil regtig. Daar is net een manier en dit is die pad van die kruis. Salomé is intens bewus dat daar iets groots in haar gees gebeur. Sy het gelyktydig ’n vrede en ’n vrees in haar. Sy wil dit vir Petrus verwoord, maar hy lê en dut langs haar en buitendien weet sy nie presies hoe om dit te doen nie. My genade is vir jou genoeg. Ek laat julle nie as weeskinders agter nie. Ek het vir julle my Gees gegee.
Die spanning in Saleh knoop stywer met elke kilometer wat hulle aflê. Wat lê vir haar voor? Lewe Ashraf nog? Die onsekerheid maak haar mal. Sy skakel die oorfone aan en laat die Woord oor haar spoel. Maar selfs dit wil nie vandag haar gedagtes hokslaan nie. Emmanuel lê vreedsaam en slaap. Salomé staar by die venster uit en Petrus slaap ook. Hassan en Nahed is in hulle eie gedagtes weggevoer. Weet hulle ooit van haar stryd? dink sy byna gebelg. Maar juis op hierdie oomblik draai Salomé om en glimlag gerusstellend vir haar. Dit is al sterk skemer toe hulle die grondpad na die opleidingsentrum neem. Almal is flou gery en Emmanuel is lastig. Dit is die langste ent wat hulle nog op een dag met hom in die motor aangedurf het en dalk was dit ’n bietjie te veel
gevra. Skielik, toe hulle om ’n draai ry, verskyn twee mans met masjiengewere uit die bosse reg voor hulle op die grondpad. Aan die een kant is ’n diep donga en aan die ander kant ’n plaat bome. “Dis ’n lokval!” roep Hassan uit. Nahed bid hardop en Saleh val instinktief onder die bank in met Emmanuel. Hy huil hard toe die bussie tot stilstand ruk. Dit is ’n vreesaanjaende oomblik lank stil, tot daar aan die bussie se deure gepluk en hulle met geweld uitgejaag word. Toe Saleh en Emmanuel agter tussen die sitplekke uitgesleep word, kyk sy op in die gesig van haar nagmerries. Khaled, Ashraf se broer. “Ek het jou gesê ons speel nie speletjies nie,” sis hy by haar oor. Sy klou aan Emmanuel vas terwyl hy haar by die bussie uitsleep. Sy beland langs die verskrikte groepie wat met masjiengewere aangehou word. Daar is ongeveer ses mans met wapens. Emmanuel skree uit volle bors. Sy probeer hom sus, maar bewe self van kop tot tone. Toe sien sy hom: Ashraf! Hy lyk gehawend, verwese, stukkend geslaan en maer. Sy wil na hom toe hardloop, maar daar is ook op hom ’n masjiengeweer gerig. Haar bene gee pad onder haar en toe Salomé haar hande na Emmanuel toe uitsteek, laat Saleh hom na haar toe gaan. Isa, help ons! “Bly net kalm,” maan Petrus hulle. Salomé het Emmanuel effens kalmeer en hulle staan in ’n verslae bondel teen mekaar met die masjiengeweermans wat hulle omsingel. “Het julle die geld?” skree Khaled in Arabies op hulle. Nahed vertaal sag vir Petrus en Salomé.
“Nee, ons het nie,” antwoord Hassan. “Ons het nie sulke bedrae geld nie.” “Maar julle Amerikaanse vriende kan dit sekerlik bymekaar kry. Hoekom vra julle hulle nie?” Khaled wys geïrriteerd na Petrus en Salomé. “Hulle is nie Amerikaners nie. Hulle is van Suid-Afrika en hulle het nie sulke geld nie,” sê Hassan. “Jy lieg!” spoeg Khaled. “Ek lieg nie,” antwoord Hassan met ’n vaste stem. Die mans praat onderlangs met mekaar. Ashraf wieg onstabiel op sy voete. Isa, gee vir ons uitkoms! “Gee dan vir ons die baba in ruil vir hierdie kafir!” Hulle stamp Ashraf tot op sy knieë. “Nee, ons gaan nie die baba gee nie,” antwoord Hassan. Hy staan voor die groep. Dapper en tog nie arrogant nie. “Wil daardie hoer dan nie haar man terughê nie?” vra Khaled en kom nader. “Miskien moet ons haar ruil vir hom, dat ons haar kan behandel soos ’n hoer behandel moet word.” Saleh ruik sy warm asem in haar nek. Sy sidder, maar roer nie ’n spier om haar vrees te wys nie. Niemand sê iets nie. Hassan en Nahed staan net nader aan Saleh. “Wel, as ons nie die baba kan kry nie, sal ons hom skiet.” Sonder omhaal rig hy die geweer op Salomé met die baba. “Nee!” skree Saleh en probeer Emmanuel bykom. Alles gebeur gelyktydig. Salomé draai instinktief sodat sy Emmanuel met haar lyf afskerm. ’n Reeks skote gaan oorverdowend af en iewers kom ’n hortende klank vandaan. Eers toe daar ’n warm nattigheid oor haar voet vloei, kyk Salomé huiwerig terug.
Petrus!
Dit gebeur asof in vertraagde beweging. Almal kyk geskok na die man wat geval het. “Amerikaner! Amerikaner!” skree die aanvallers vir mekaar, hardloop na ’n voertuig en jaag in ’n stofstreep weg. Die baba word uit haar hande geneem. Voor haar op die grond lê haar Petrus met gate in sy lyf geskiet. Dít omdat hy voor haar ingetree en die koeëls afgeskerm het. Sy wil dit uitskree, maar daar kom net ’n fluistering oor haar lippe. “Petrus.” Sy duik af, druk haar vingers in die gate en probeer die bloed stop. “Ek het nie genoeg vingers nie,” huil sy. “Ek is jammer, Petrus, maar ek het nie genoeg vingers nie. Ek kry nie die bloed gestop nie. Help my! Iemand!” Sy is histeries. Petrus se hande roer effens soos hy haar hand probeer bykom. Sy gryp sy hand vas. “Nee. Here, nee. Nie Petrus nie. Petrus. Hoor jy my? Jy kan my nie alleen los nie!” Hy druk haar hand effens. Sy kan sien hy wil iets sê, maar hy stik in die bloed wat uit sy mond loop. Haar trane val op sy gesig. Sy hou haar oor naby sy mond. “Ek is lief vir jou, Sally,” wurg hy dit uit. Toe vertrek sy mond in ’n hemelse glimlag en verander die lig in sy oë wat ’n sekonde gelede nog so vol liefde na haar gekyk het. Só lyk die dood, weet Salomé, al het sy dit nog nooit voorheen gesien nie.
Hoofstuk 40
NA SUID-AFRIKA. 30 APRIL 2011
Hoe beskryf ’n mens die verlatenheid as jy op ’n stofpad in Egipte sit en sien hoe jou man se bloed in stroompies deur die stof opgedrink word? ’n Hand op jou skouer. Die stilte van dood. Die gehuil van ’n lewende baba. Die weersiens van ’n gebroke geliefde wat stukkend uit die stof opgehelp word. Die son wat stadig sak. Sy weet dit was haar snikke wat deur die lug geskeur het. Hulle moes haar met geweld van hom af wegsleep. Sy wou by hom bly tot hy yskoud was. Hulle het dit toegelaat, maar selfs daarna kon sy hom nie laat gaan nie. Hoe lank het sy met hom op haar skoot gesit, haar vingers in sy wonde? Sy weet nie. Petrus, haar Petrus. Van wat daarna gebeur het, weet sy min. Dalk het sy flou geword, want sy onthou hoe sy in ’n bed wakker geword het. Die bed wat sy en Petrus nog ’n week gelede gedeel het. Hoe sy haar hand na sy kant van die bed toe uitgesteek het en ’n oomblik gehoop het dat dit alles ’n nare droom was, net om die koue leegheid langs haar te voel. Hoe beskryf ’n mens die vreeslikheid van daardie eerste koue, verskriklike verlies? Later het sy opgestaan en sy tas wat verdwaald in die kamer gestaan het, oopgeruk. Sy het sy klere op sy plek in die bed uitgegooi en haar gesig daarin gedruk, net om hom te kan ruik. Vasgeklou aan die leegheid van die dop wat hom soms omsingel het. Petrus. Iemand het haar daar gevind. Vertroostende arms, vreemde arms. Hoe kan sy beskryf hoe intens sy toe na haar ma verlang het? Haar ma. Oproepe. Haar hart wat uit haar lyf skeur toe sy Thea moes bel. Sy wou self met die kinders praat. Knak en kan nie. Sus se liefde en kalmte. Sy sal Ma en Pa bel,
het sy gesê. Moet ons kom, Salomé? Ons sal kom as jy wil? Moet ons kom? Nee, ek kom terug. Petrus se ouers. Hoe verskriklik om haar skoonma se liewe stem aan die ander kant van die lyn te hoor en te moet sê. ’n Hart wat breek duisende kilometers ver. Lieflingseun. Vroeg geroep. Met koeëls deur sy lyf. Bloed wat pomp deur gate. Te min vingers om bloed te stop. Jou man se bloed in die stof. Pilletjie. Duisternis. Lig. Gaan weg, lig. Asseblief, eerder weer die duisternis. Asseblief, moenie dat die son opkom en die dag aangaan asof niks gebeur het nie. Maar die son kom op. Die dag gaan aan. Petrus se gesig op televisie, doodgeskiet deur fanatiese Islamiete. Sketse van bendelede se gesigte. BBC-nuus. Die Suid-Afrikaanse ambassade kontak Hassan. Of sy oorskot vervoer moet word? Nee. Hy het hier sy bloed gegee. Sy lewe gegee. Hy moet hier begrawe word. Sy wens haar ma was hier. ’n Graf. Petrus se graf. Almal was lief vir Petrus. Nie een van haar geliefdes is hier nie. Miskien moes sy hom tuis begrawe het? Die kinders. Here, die kinders! Here, liewer ek. Sy wou saam in die graf klim. Doodgaan. Maar sy het aanhou lewe. Asseblief, kan iemand my ook skiet, Here? Saleh en Ashraf en Emmanuel langs die graf. ’n Heel gesin. Ashraf lyk sleg. Laat hom leef, Here. Laat Petrus se dood die moeite werd wees. Laat Ashraf leef. Hassan met ’n mooi getuigskrif van Petrus. Sy het aan elke woord geklou, maar amper alles vergeet wat hy gesê het. Dit was waar, dit onthou sy. “Skryf dit vir my neer, Hassan,” het sy gevra. “Ek wil dit vir my kinders gee. Wanneer hulle opstandig raak en nie verstaan waarvoor hulle pa sy lewe gegee het nie, wil ek dit vir hulle kan wys.” Hy het. Hassan. Trane. Nahed. Trane. Saleh wat breek by die graf. Ween oor Petrus, ween oor Salomé se verlies. Haar bloedsuster.
Soveel keer het sy met haar snaakse aksent kom betuig: “Salomé, ek is so jammer. Ek wens ek kon met jou plekke ruil. Ek wens ek kan iets verander aan wat gebeur het.” Hoeveel keer het sy gesê: “Dis nie jou skuld nie, Saleh,” om haar opreg vry te spreek. Haar vasgedruk, haar die lewe gegun. Ashraf wat kom sê het: “Ek is so jammer, Salomé. As ek net nie na die opstande toe gegaan het nie, as ek net vir Saleh geluister het.” “Dis nie jou skuld nie, Ashraf. Vat die lewe wat vir jou gegee is.” Gebruik elke oomblik daarvan reg. Emmanuel. Onskuldige Emmanuel wat steeds met haar geglimlag het wanneer sy hom optel en vasdruk, al huil sy. Nou die vliegtuig. ’n Klein vliegtuig wat haar kom haal. Afgevaardigdes van die Suid-Afrikaanse ambassade wat formeel hulle meegevoel betuig. Leeg. Sy ignoreer hulle. Sit met toe oë; geen slaap kom nie. Here, was almal dan al die tyd reg en Petrus verkeerd? Dit verseker Ek julle: as ’n koringekorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net alleen; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in. Dis seer Here, dis so vreeslik seer. Ek weet. Onthou, Ek laat julle nie as weeskinders agter nie. Dit voel of iets soos ’n kombers van troos van agter af om haar gehang word. Haar oë flikker oop. Niemand. Tog was dit daar … Hassan se brief, vasgeklem in haar hande.
Liewe Salomé Hoe getuig ’n mens oor ’n man soos Petrus se lewe? Petrus, die rots waarop die kerk gebou is. Petrus wie se hart toegewy was aan God en sy werk. Maar veral
Petrus ons vriend. Petrus wat die afgelope jare die pad saam met ons gestap het, wat ons oortuig het dat God nie van ons vergeet het nie, wie se hart hier was met elke krisis en elke oorwinning waardeur ons moes gaan, al was hy soms kilometers ver. Petrus het ons laat glo dat God se vrye kerk omgee vir ons. Ek weet nie hoe om jou te troos nie, Salomé. Petrus het sy lewe gegee vir die vervolgde kerk, maar ten koste van jou en julle kinders. God se somme maak soms nie vir ons sin nie. Een ding weet ek, as dit Ashraf was wat gesterf het, sou geen haan daarna gekraai het nie. Ashraf sou die ewigheid ingegaan het met ’n kroon op sy kop, maar dit is die uitkoms wat almal vir jou voorspel as jy van Islam na Christenskap toe oorgaan. Omdat dit Petrus is wat gesterf het, is hierdie storie aan die lamppale van die wêreld gehang. Vir ’n oomblik het die mense oor die hele wêreld heen gesug en die kop geskud oor die verskriklikheid van familie wat mekaar sal vermoor oor geloof. Vir die wêreld was dit ’n terroristeaanval van fanatiese gelowiges en hulle maak hulle stem dik oor die misdaad. Die verdagtes se name en gesigte is gepubliseer en hulle word gesoek vir ’n moordverhoor. As dit nie Petrus was nie, het dit nie eens die plaaslike koerant gehaal nie. Dan was dit net ’n Christen wat sy verdiende loon gekry het. Ek weet nie of dit enige troos vir jou is nie, maar hierdie wete troos my, wat my getroue vriend verloor het. Sy lewe, maar ook sy dood, het ’n verskil gemaak. Ek kan net bid dat hierdie wete jou sal help om berusting te vind. Ek is so jammer vir jou en oor julle verlies. As hy hier so geliefd was, kan ek my voorstel hoeveel geliefdes hy in sy eie land moet hê. Weet ons bid vir jou. Mag die Gees jou vertroos. Al ons liefde, jou getroue vriende Hassan en Nahed
Uiteindelik is daar weer vastigheid onder die vliegtuig en kan Salomé met
bewende bene afklim. Waterkloof-lugmagbasis. Laatnag. Sy het gedink sy is opgehuil, maar toe sy die erewag van geliefdes sien, kan sy net doodstil gaan staan met haar hand voor haar bewende mond. Rye en rye bekendes wat kom vir ’n laaste eerbetoon: tannie Marié en oom Daan. Lilly, byna onherkenbaar van kop tot toon in somber swart. Kollegas, kerkvriende, Petrus se kollegas. So ver sy loop, sien sy ander se trane deur haar trane. En toe haar ma en pa. Ag, Here, dankie. My ma. Sy kry nie al die kinders gelyk vasgehou toe hulle na haar toe hardloop nie, maar sy probeer nietemin. Alexander in haar arms en Talitha en Markus styf teen haar vasgedruk. Sy is hulle anker en hulle hare. Kameras wat flits; die media is ook hier. Haar ma en pa wat nader stap en hulle omhels. Haar skoonouers staan lamgeslaan deur hartseer voor haar. Druk hulle styf vas. Niemand het woorde nie. Iewers kry sy die krag vandaan om na die erewag toe te draai. ’n Mediamikrofoon word voor haar mond gedruk. “Petrus Pretorius was ’n dapper man van God,” sê sy met ’n bewende stem. “Ek is trots en dankbaar om sy vrou genoem te word. Hy het sy lewe gegee, dis nie by hom geneem nie. Sy dood was nie tevergeefs nie.” Stilte. Iemand begin stadig hande klap. Dit begin versigtig, maar die een na die ander val in en dit hou aan en aan tot dit ’n sterk applous word. Toe draai Salomé en haar geliefdes om om te gaan sin maak daarvan.
Outeursnota
Alhoewel hierdie werk fiksie is, is baie van die karakters gegrond op mense en gebeure in die werklike lewe. Ek verstaan iets van ’n man wat weens sy beroep met tye afwesig is. Tog is hierdie boek nie outobiografies nie. Ek is baie lief vir Christus se kerk, sy bruid. Ek behoort aan ’n gemeente in die vrye kerk van die Weste. Ek glo egter dat ons nie altyd ons roeping nakom nie. Hierdie roman is dus nie kritiek van buite teen die kerk nie, maar ’n aansporing van binne. Ek hoop jy het hierdie boek beleef as ’n motivering om betrokke te raak, daar waar God aan die werk is en ons by Hom moet aansluit. Liefde in Hom.
Raak vandag nog betrokke by die vervolgde kerk: kontak Incontext bedieninge: mike@incontextministries www.incontextministries.org 031 7655 702
Vir ’n opgedateerde lys van Islamitiese aanvalle op Christene sedert 2011/09/11, besoek http://www.thereligionofpeace.com/Pages/ChristianAttacks.htm
Ek bedank graag
God my Vader. Wat ’n voorreg dat Hy my hande, kop en hart gekies het om aan hierdie storie geboorte te gee. Wat ’n voorreg om in sy diens te staan. Dit is Hy wat ons bekwaam maak. My man, jy is my held. As dit nie vir jou rekenaarkennis en -hulp was nie, sou ek sekerlik hierdie boek met die hand moes skryf. Dankie vir jou eindelose geduld, jou aanmoediging en veral jou gebede. Dankie dat jy my saamgesleep het na Egipte. Dankie, bowenal, dat die Heilige Gees deur jou kon werk op kritiese tye in die storielyn. My vier liefste kinders, dankie vir julle almal se liefde, ondersteuning en begrip. Dankie ook aan my meisiekind vir die subtitel. Julle is en bly steeds belangriker as enige boek wat ek ooit sal skryf. My ouers, vir julle voortdurende aanmoediging en veral my ma vir die ure se leeswerk, nie net van hierdie boek nie, maar van amper elke skryfstuk van die afgelope dertig jaar. My skoonouers en veral my skoonma vir wonderlike etes wat afgelaai is op deurmekaar tye. Dankie vir julle begrip wanneer ons huishouding soms op sy kop gestaan het. Willemien, dankie dat jy deurlopend saam met my opgewonde was en dat jy storielyne help vorm het. Ek het Lilly aan jou te danke. Rieka en Mariaan, vir julle intensiewe leeswerk. Julle is kosbare vriendinne en edelstene van die Koninkryk. Mike en Helen, wat die boek selfs twee keer gelees het. Julle insette was van onskatbare waarde. Tannie Ina, my innige waardering vir ure se bidwerk agter die skerms. Ek eer God vir Tannie se voorbeeld en getrouheid. Dis wierook voor die Koning.
Manie en Lettie. Julle insette beteken oneindig baie vir my. Al my broers, susters, skoonfamilie en vriende, wat deurgaans belanggestel het. Jeanette, vir jou deeglike redigering. Lux Verbi-Uitgewers vir die geleentheid om hierdie storie aan die wêreld te mag vertel.
Kaart van Egipte
Woordverklarings
abaya: oorkleed wat die vroulike liggaam bedek sodat net die gesig en hande sigbaar is adhan: oproep tot daaglikse gebede Al Kaïda: globale militante Islamitiese organisasie dhimmitude: filosofie waarvolgens nie-Moslems toegelaat word om te bestaan maar soos tweedeklasburgers behandel word Eid al-Adha: fees aan die einde van ’n pelgrimstog fatwa: voëlvry verklaar felucca: tradisionele seilboot gallibaya: tradisionele Egiptiese kleed habibi: geliefde vriend Hajj: pelgrimstog na Mekka hijab: doek wat die kop, nek en skouers bedek imam: Moslem-leraar Injeel: Arabiese weergawe van die Nuwe Testament Isa: Jesus jihad: heilige oorlog om Islam te bevorder kafir: heiden khifad: vroulike besnydenis
MBB: Muslim Background Believers minarette: argitektoniese torings op Moskees wat gebruik word vir die oproep tot gebede mirhab: nis in ’n moskeemuur wat die rigting na Mekka aandui Mossad: Israel se intelligensiediens Ramadan: elfde maand van die Moslem-kalender waartydens daar van ligdag tot skemeraand gevas word salat: gebede wat vyf keer per dag gebid word shahadah: Islamse geloofsbelydenis sharia: kombinasie van wette wat in die Koran opgeteken is shirk: leer waarvolgens goddelikheid aan enigiemand anders as Allah toegedig word shukran: dankie umma: Islamitiese wêreldnasie
Bronnelys
Gosh, Bobby. 14 Februarie 2011. “The Revolutionaries.” Time. http://blogs.telegraph.co.uk/technology/iandouglas/100006366/the-real-use-ofsocial-media-in-the-egyptian-revolution/ http://en.wikipedia.org/wiki/Tahrir_Square http://en.wikipedia.org/wiki/Tunisian_revolution http://guides.library.cornell.edu/content.php?pid=259276&sid=2159613 http://www.incontextministries.org/ http://islamic-dictionary.tumblr.com/ http://news.egypt.com/en/2011030713732/spot-light/spot-light/egypt-revolutionkey-moments-and-reaction-around-middle-east.html http://sharepointblog.virtosoftware.com/blogs/partners/archive/2011/02/01/peopleof-egypt-we-hear-you.aspx http://topics.nytimes.com/top/news/international/countriesandterritories/egypt/ http://travel.sulekha.com/the-egyptian-odyssey-part-iii-the-nile-cruise-komombo-edfu-esna-locks-and-luxor_travelogue_4381 http://www.asianews.it/news-en/Egypt:-Christians-ed-as-Muslims-canchange-their-status-22048.html http://www.bbc.com/news/ http://www.heavy.com/news/2013/07/egypt-unrest-protests-photos-picturesrevolution/2/
http://www.johnsanidopoulos.com/2010/01/coptic-christmas-massacre-inegypt.html http://www.johnsanidopoulos.com/2010/01/egypt-copt-killings-worldattention.html http://www.leonard-ravenhill.com/quotes http://www.lonelyplanet.com/egypt/nile-valley/esna-to-abu-simbel http://www.mountpleasantgroup.com/adx/aspx/adxgetmedia.aspx? MediaID=6854 http://www.nation.co.ke/News/africa/One-dead-in-clashes-after-Coptic-funeral//1066/1742262/-/a648rn/-/index.html http://www.renesys.com/blog/2011/01/egypt-leaves-the-internet.shtml http://www.theguardian.com/commentisfree/2010/oct/21/egypt-facebookrevolution http://www.thereligionofpeace.com/ http://www.vcstar.com/news/2013/apr/11/egyptian-revolution/?partner=RSS http://www.wikiislam.net/wiki/Persecution_of_Ex-Muslims_%28Egypt%29 http://www.worldatlas.com/webimage/countrys/africa/eg.htm https://idoc-pub.cinepelis.org/cdn-cgi/l/email-protection" class="__cf_email__" data-cfemail="19534a5c4a4a505657505d59786b7a71706f7c706d37766b7e">[email protected]=AFA870CEF9BA50950161C8E683268EBE Stengel, Rick. 26 Desember 2011. “The Protester – 2011 Person of the year.” Time. Zakaria, Fareed. 14 Februarie 2011. “The Revolution.” Time.
Lof vir die boek/skrywer
“Rewolusie van die hart is vars en nuut en aktueel. Dit is ’n verhaal met al die elemente vir ’n lekkerleeservaring. Adriana is ’n skrywer wat veel belofte inhou.” – Danny Fourie
“Hierdie inspirerende debuutroman is genotvol en boeiend. Dit slaag daarin om beide hedendaagse asook eeue oue probleme tussen die mens en sy God uit te lig. Verder spreek dit op onverskrokke en eerlike wyse kwessies aan soos die wrede vervolging van Christene, asook die besondere dilemma van ’n sendeling se vrou. Die kosbare inligting in die roman is tekenend van die feit dat God Self sy kerk in stand hou.” – Helene de Kock
“Adriana se onverskrokke gehoorsaamheid aan God, radikale volgelingskap van Jesus, sensitiwiteit vir die leiding van die Heilige Gees saam met ’n onselfsugtige diensbaarheid aan haar gesin en gemeenskap en ’n vreeslose hart en ie vir die vervolgde kerk, vloei spontaan uit in haar skryfwerk. Haar boek beloof om lesers van die ‘vry kerk’ met tussen-die-oë-tref-waarheid uit te daag, te inspireer, te leer.” – Lindie Strydom
Oor die boek
Dit is 2010 in Egipte. Saleh Samir vlug vir haar en haar ongebore baba se lewe. Haar fanatiese Moslem skoonfamilie het ’n fatwa oor haar en haar man Ashraf uitgespreek weens hul oorgawe na die Christendom. Sy is bang en alleen en maak staat op die goedheid van ander gelowiges vir haar veiligheid. Dit word ’n reis van geloof en vertroue in haar nuwe Verlosser. Terselfdertyd, in Pretoria, is Salomé Pretorius in ’n innerlike stryd gewikkel. Sy sukkel om vrede te maak met haar predikantman, Petrus, se roeping om die vervolgde kerk in die Midde-Ooste te dien. Salomé is dikwels op haar eie en moet die huishouding en haar beroep as musiekonderwyseres balanseer, terwyl sy haar man voortdurend moet verdedig. Gelukkig help Salomé se vriend Dirk haar soms … Deur ’n goddelike sameloop kruis Saleh se pad met dié van Petrus. Hul wêrelde word met mekaar verweef teen die spannende agtergrond van die rewolusie wat hom afspeel in Egipte in 2011. Albei vroue beleef ’n innerlike rewolusie – een wat vir albei ’n radikale hartsverandering tot gevolg gaan hê …
Oor die skrywer
Adriana Faling is ’n gewilde aktrise wat bekendheid verwerf het met haar rol as Tessa in die sepiereeks Egoli. Van 2014 vertolk sy die rol van mevrou Theunissen op 7de Laan, die gewildste Afrikaase televisieprogram. Adriana en haar man is betrokke by die ondersteuning van sendelinge in groot dele van die wêreld. Deur instansies soos Inkonteks-bedieninge help mobiliseer hulle die kerk in Suid-Afrika om die vervolgde kerk en sending te steun. Hierdie is Adriana se eerste vollengte roman.
Rewolusie van die hart
Uitgegee deur Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms.) Bpk., Heerengracht 40, Kaapstad 8001 www.luxverbi.co.za
Kopiereg © 2014 deur Adriana Faling
Tensy anders aangedui, kom aanhalings uit die Skrif in hierdie boek uit die Bybel in Afrikaans (1983-vertaling met herformulerings). Kopiereg © 1983, 1990 deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Aangehaalde liedere kom uit Liedboek van die kerk. Kopiereg © 2001 NG Kerk-Uitgewers. Ander vertalings wat gebruik is, sluit in: God’s Word Translation Bible (GW). Kopiereg © 1995 deur die Baker Publishing Group. Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skryf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting.
Teksversorging deur Jeanette Ferreira en Danny Fourie Omslag en uitleg deur Marthie Steenkamp Kaart ontwerp deur Izak Vollgraaff E-boekontwerp deur Trace Digital Services
Ook beskikbaar in druk Eerste uitgawe, eerste druk 2014 ISBN: 978-0-7963-1881-7
Epub-uitgawe: Eerste uitgawe 2014 ISBN: 978-0-7963-1882-4 (epub)
Mobi-uitgawe: Eerste uitgawe 2014 ISBN: 978-0-7963-1883-1 (mobi)