Terug na die OU TESTAMENT...
En wat dan van Jesus?
ADRIO KÖNIG
Lux Verbi
Voorwoord
Dit is een van die moeilikste boeke wat ek nog geskryf het. Dis nie oor die onderwerp so ingewikkeld is nie. Dis oor ek moet verskil van mense wat naby my staan, gelowiges wat die Here liefhet. Daarom is dit deurgaans ’n saaklike bespreking, want as gelowiges kan ons tog ook saaklik van mekaar verskil, en mekaar probeer verstaan en oortuig. Die titel is “Terug na die Ou Testament ...” Sommige sal alreeds hiervan verskil en sê hulle is nie op pad terug nie, maar vorentoe om die wil van die Here te doen soos dit uitdruklik in die Bybel staan. Maar soos ek dit verstaan, was die gebruike waaroor dit hier gaan, nie meer deel van die vroeë Christene se lewe nie. Dit het alreeds in die tyd van die Nuwe Testament uit hulle lewe verdwyn. Een saak wat my baie help, is om te onthou dat Jesus in ’n sekere sin nog heeltemal deel van die Ou Testament was. Hy het nog streng volgens die wet geleef: tempel, offers, feeste, besnydenis, Sabbat. Die werklik nuwe tyd het eers by sy kruis en opstanding gekom. Daarna het die mense wat in Jesus geglo het, vir die eerste keer as ’n aparte groep begin optree, aanvanklik nog steeds as deel van die Joodse gemeenskap, maar gaandeweg het daar verwydering tussen hulle en die Jode gekom totdat hulle uiteindelik heeltemal ’n eie godsdiens gehad het. Selfs binne hierdie nuwe geloofsgemeenskap was daar afstand en soms spanning tussen die Joodse Christene en die Christene uit die heidene. Dit het veral oor die wet en meer spesifiek oor die besnydenis gegaan (Galasiërs). Maar uiteindelik het die “wetsvrye” Christendom heeltemal oorgeneem. Maar dit lyk nou asof daar ’n groep Christene is wat as ’t ware wil terug na die wet en na die gemeente wat uit Joodse gelowiges bestaan het. Miskien sou Paulus dit nog wel toegelaat het vir Christene uit die Jode, maar vir Christene uit
die heidene het hy ’n volstrekte nee gesê. Galasiërs 1:6-9; 4:8-11en 5:2-4 is duidelik hieroor. In werklikheid lyk dit vir my asof hy hiermee selfs die Christene uit die Jode verbied om nog met die besnydenis voort te gaan. Maar die besnydenis was net die punt van die ysberg. Dis duidelik dat die Sabbat, die feeste en selfs die voedselvoorskrifte ook uit die lewe van die Christene verdwyn het (Gal 4:8-11; Kol 2:16-17) en later ook die tempelpriesters-offers (Hebreërs). Die boodskap van hierdie boek is dat die beweging “terug na die Ou Testament” nie pas in ’n gemeente van Christene nie. Galasiërs, Kolossense en Hebreërs is duidelik hieroor.
Adrio König April 2014
1
DIE TERUGKEER NA DIE OU TESTAMENT
Sommige Christene is vandag ernstig om weer te begin met sekere gebruike wat in die Ou Testament baie belangrik was. En soms beteken dit ’n radikale herinterpretasie en herorganisasie van hulle lewe. Daar was altyd verskille onder Christene oor hoe ons die Ou Testament moet hanteer, watter dinge nog vir ons geld en watter nie. Is dit eenvoudig hierdie selfde dinge wat terugkom, of is dit nuwe dinge? Kom ons kyk terug na die begin van die Christelike geloof. •Aan die begin was een van die brandendste vrae die een of die bekeerlinge uit die heidendom besny moes word (Hand 15; Galasiërs). •Maar die feeste en die Sabbat het ook vrae na vore gebring (Gal 4:9-11; Kol 2:16-17; Rom 14:5-6). •Ook die vleis van onrein diere (Hand 10:9-16), ander voorskrifte oor vleis (Hand 15:20,29) en eet- en drinkvoorskrifte (Kol 2:16-17). •Die vraag of gelowiges die vleis wat deur heidene aan afgode geoffer is, mag eet, het hier bygekom (Rom 14; 1 Kor 8 – 9). •Maar ’n veel ingrypender vraag was die vraag wat die verhouding moes wees tussen die Joodse gelowiges en die gelowiges uit die heidene. Hieroor het Paulus en Petrus selfs in die openbaar van mekaar verskil (Gal 2:11-14). •Maar miskien die heel belangrikste was die Joodse gelowiges wat skynbaar nie net oorweeg het om weer na sekere gebruike in die Ou Testament terug te gaan nie, maar selfs om hulle geloof in Jesus prys te gee (Hebreërs).
Baie nou hieraan verbonde was die algemene vraag oor die wet. Geld die wet nog, of nie meer nie? Wat van die wet geld nog, en wat nie meer nie (oa Rom 7 – 8). In hierdie verband het die vraag: Abraham óf Moses, die geloof óf die wet (Gal 3:1-9) baie sterk na vore gekom. Maar dit was ’n omvattender vraag wat nie net oor spesifieke sake gegaan het nie.
Die antwoorde op hierdie vrae oor die Ou Testament was van beslissende betekenis vir die voortbestaan van die Christelike geloofsgemeenskap. Die antwoorde was oorwegend negatief wat die Ou Testament betref: •nie meer die besnydenis nie; •nie meer die feeste nie; •nie meer Sabbat nie; •nie meer die wet nie; en •nie meer die tempel, priesters, offers nie.
Al hierdie gebruike is nie oornag afgeskaf nie. ’n Mens moet onderskei tussen Jode en heidene wat Christene geword het. Die Joodse Christene het met hierdie gebruike grootgeword en aanvanklik daarmee voortgegaan. Die apostels het self aanvanklik nog die tempel besoek (Hand 3), die gelowige Jode in Jerusalem het nog lank “die wet van Moses stiptelik onderhou” en onder andere hulle seuntjies besny (Hand 21:21). Daar is skynbaar selfs een of twee voorbeelde van feeste wat hulle gevier het (Hand 20:6,16). Hulle het ook van die heiden-Christene verwag om hierby in te val. En juis dit was die krisis waaraan Paulus so hard gewerk het. Hy was oortuig dat dit nie net onnodig was vir die Christene uit die heidene nie, maar selfs verkeerd (Galasiërs, Kolossense). Hierdie gelowiges het dus afstand gedoen van hierdie gebruike. En die omvattende prysgawe van al hierdie dinge was onontbeerlik vir die behoud en groei van die Christelike geloofsgemeenskap. Indien hierdie proses van “ontbondeling” met die Jode nie plaasgevind het nie, sou die Christene voortbestaan het bloot as ’n vreemde groepie Jode binne die Joodse geloofsgemeenskap. Dis immers hoe die Christelike geloofsgemeenskap begin het. Dit was ’n groepie Jode, deel van die Joodse geloofsgemeenskap, wat eintlik in beginsel net op een punt van die ander Jode verskil het: hulle het geglo dat die Messias reeds gekom het. Maar hulle het saam met die ander Jode die tempel besoek (Hand 3), die feeste gevier (Hand 20:6,16; 21:26), die wet gehou en hulle kinders besny (Hand
21:20-21). Indien hulle net só aangegaan het, indien Paulus nie na die heidene uitgereik het nie, sou die vroegste Christene niks meer bereik het nie as om ’n (kleiner of groter) skeuring in Joodse geledere te veroorsaak. Ons het dit aan die werk van die Here deur Paulus te danke dat die Christelike geloof uit hierdie ingehokte situasie uitgebreek het en die heidenwêreld verower het. Dis Paulus wat die evangelie “verbruikersvriendelik” vir die heidene gemaak het. Die kans dat ’n massa heidene skielik Jode sou word, was gering. Ons kan moeilik ten volle die betekenis waardeer wat Paulus gehad het en nog steeds het vir die vorming én die groei van die Christendom in die wêreld. Hy was ’n gawe van God, nie net aan die kerk nie, maar aan die wêreld. Wat het hy gedoen? •Hy het nie die Ou Testament afgeskaf nie. Dit sou fataal gewees het. •Hy het dit ook nie sondermeer heelhuids aanvaar nie. Dit sou ewe fataal gewees het. •Hy het versigtig, selektief, met fyn onderskeidingsvermoë, uitgesoek wat enersyds nog geldig is en geldig sou bly, en wat andersyds deur Christus vervul en vervang is.
EN VANDAG?
In vandag se beweging terug na die Ou Testament het ons ’n hele lys van sake wat nie destyds ter sprake was nie. Die meeste daarvan lyk eintlik veel onskuldiger. Allerlei sake kom in die gedrang, soos •Kersfees en ander Christelike feeste; •verjaarsdae; •die name van die dae en die maande; •die name van God en van Jesus; en •die ramshoring.
Terloops, is dit nie onvermydelik dat ook die jaartelling en die berekening van jare ter sprake sou moes kom nie? Die Ou Testament het immers nie net ander name vir die maande gehad en ook die dae anders genoem nie. Hulle het maanmaande gehad wat nie met ons s’n saamval nie, en hulle het ook nie ’n jaar van 365 dae geken nie. Verder kry ’n mens ook ’n aantal sake wat skynbaar nie direk uit die Ou Testament voortvloei nie soos •drome en droomuitleg; •die wederkoms nou; •die doop; en •“huisskoonmaak”, feetjies en kaboutertjies.
Maar intussen is sommige van die ou sake ook terug op die agenda, en miskien is hulle in die huidige situasie die sake wat selfs die deurslag gee: •die Sabbat; •die feeste; en •die wet.
Hoe nou? Paulus en veral ook die Brief aan die Hebreërs was skerp in hulle veroordeling van hierdie rigting. Paulus skryf: As julle dit of dat doen of glo, “sal Christus vir julle geen betekenis hê nie,” dan het “julle julle band met Christus verbreek”, dan het julle “die genade van God verbeur” (Gal 5:2,4). Kan ’n mens regtig vandag dieselfde van hierdie beweging sê? Dis duidelik dat baie van die Christene wat hierdie rigtings inslaan, ernstig en toegewyd is. Dit gaan eerder in baie gevalle oor gelowiges wat die Here met hart en siel dien, wat die verlossing deur Christus ten volle ernstig neem. Maar dit neem nie weg dat ons moet vra wat ons in die Bybel kry oor die dinge waarmee hulle besig is nie. In die hoofstukke wat volg, sal ons die hoofsake van hierdie beweging probeer verstaan in die lig van die Nuwe Testament.
2
DIE SABBAT
Die Sabbat is sekerlik een van die belangrikste gebruike waaroor dit gaan. Dit het nie nou eers tussen Christene ’n probleem geword nie, maar alreeds ver terug in die geskiedenis. Daar was waarskynlik deur al die eeue sedert Christus se koms Christene wat geglo het die Sabbat moet nog net soos in die tyd van die Ou Testament onderhou word. Wat beweeg hulle tot hierdie oortuiging? Kom ons kyk eers wat ons oor die Sabbat in die Bybel het.
2.1 DIE OU TESTAMENT
Die Sabbat is ’n belangrike saak in die verhouding van die Here met Israel. Dit word in die eerste skeppingsverhaal vermeld (Gen 2:2-3) en kom dan tydens die uittog na vore as een van die tien gebooie. Interessant genoeg is daar geen teken dat dit vroeër deur die aartsvaders onderhou is nie. Eers tydens die uittog uit Egipte (Eksodus en Levitikus) kom die Sabbat na vore. Ons kry die eerste verwysing na die Sabbat tydens die uittog, toe die Here vir die volk manna gegee het. Hulle is verbied om dit op die Sabbat op te tel. Hulle moes rus en só die dag aan die Here wy (Eks 16:22-30). Daarna kom die tien gebooie. Ook hier is daar net die verpligting om op die Sabbat te rus (Eks 20:810). Dit word dan ook ’n “rusdag” genoem. Die laaste deel van die opdragte van die Here op die berg aan Moses handel ook oor die Sabbat, en lê nog eens net die verpligting op om te rus en só die dag aan die Here te wy (Eks 31:12-17). In hierdie deel word dit selfs ’n teken tussen die Here en die Israeliete genoem. Later kom daar dan ’n paar bepalings by van dit wat gedoen mag word, en dit wat nie gedoen mag word nie: •geen vuur maak (Eks 35:3); •’n gewyde byeenkoms hou (Lev 23:3); •priesters moes elke Sabbat nuwe brood “in die heiligdom” voor die Here neersit (Lev 24:8); en •elke Sabbat moes daar ekstra offers aan die Here gebring word (Num 28:9-10).
Die eerste oortreding op die Sabbat wat vermeld word, waar iemand hout bymekaar gemaak het, is met die dood gestraf (Num 15:32-36). In die historiese boeke (Josua tot Kronieke) is daar min verwysings na die
Sabbat, eintlik net ’n paar in 2 Konings en in Kronieke. Ook in die profete het ons min verwysings na die Sabbat.
Jesaja In Jesaja is daar drie verwysings. •Eers is daar ’n seënspreuk oor almal wat die Sabbat hou, en dan spesifiek oor alle ontmandes en mense uit ander volke wat hulle bekeer en die Sabbat getrou hou (Jes 56:2-7). •Dan is daar nog ’n seënspreuk oor almal wat die Sabbat getrou hou (Jes 58:1314). Soos later in Nehemia word veral verwys na die sonde van handeldryf op die Sabbat. •En in Jesaja 66:23 sê die Here dat alle mense op die nuwe aarde elke nuwemaansfees en elke Sabbat in aanbidding voor Hom sal buig.
Jeremia In Jeremia is daar net een verwysing na die Sabbat. Dis ’n baie sterk seënspreuk oor almal wat die Sabbat getrou hou deur geen werk te doen nie, en ook ’n erge vloek oor almal wat nie die Sabbat hou nie (Jer 17:19-27).
Esegiël Ook in Esegiël is daar net een verwysing. Wanneer die toekomstige tempel na die ballingskap herbou is, moet die Oos-poort net op die Sabbat en op die nuwemaansfeeste oop wees. Verder word die offer voorgeskryf wat “die regeerder” op die Sabbat vir die Here moet aanbied, en voorskrifte word gegee vir vrywillige offers wat hy moet bring soos dié wat hy op die Sabbat bring (Eseg 46:2,4,12).
Amos Onder die klein profete is daar net in Amos 8:5 ’n verwysing na die Sabbat wat skynbaar net uit dwang gehou is.
Eers ná die terugtog uit die ballingskap kom die Sabbat weer onder Nehemia sterker na vore. Tydens ’n dag van berou deur die hele volk verwys die Leviete na die Sabbat wat die Here deur Moses aan hulle gegee het (Neh 9:14). Nehemia verbied kort daarna alle handel in Jerusalem op die Sabbat, en neem sterk maatreëls om die verbod af te dwing (Neh 13:15-22). Dis wat ons oor die Sabbat in die Ou Testament kry. Wat beteken dit? Volgens die Ou Testament is die Sabbat dus ‘n dag: •van rus; •wat aan die Here gewy moet word; •waarop bepaalde offers gebring moet word; •waarop ’n gewyde byeenkoms gehou moet word; en •waarop die priesters sekere verantwoordelikhede het.
In die geheel is daar dus opvallend min verwysings na die Sabbat in die Ou Testament, maar dié wat daar wel is, beklemtoon die feit dat dit ’n baie belangrike saak was.
2.2 DIE NUWE TESTAMENT
Daar is baie meer verwysings na die Sabbat in die Nuwe Testament as in die Ou Testament. Hierdie verwysings is beperk tot die Evangelies en Handelinge met net een uitsondering: die negatiewe verwysing in Kolossense 2:16.
Die Evangelies Die meeste verwysings in die Evangelies is oor Jesus se optrede. •Daar is “onskuldige” insidente soos wanneer Jesus wonderwerke doen met positiewe reaksie by die skare (Mark 1:21-28 en Luk 4:31-37). •Daar is ander insidente waar die skare negatief reageer, maar sonder dat die negatiwiteit in verband staan met die Sabbat (Mark 6:2-6; Luk 4:16-30). •Daar is konfrontasies met die godsdiensleiers oor sy genesings op die Sabbat (Matt 12:9-14; Mark 3:1-6; Luk 13:10-17; 14:1-6). •Die konfrontasie oor die dissipels wat op die Sabbat koringare pluk – ’n insident wat in al drie die sinoptiese Evangelies opgeteken is (Matt 12:1-8; Mark 2:23-28; Luk 6:1-5). •Dan is daar die verwysings na die Sabbat in verband met Jesus se kruisiging, begrafnis en opwekking (Matt 28:1; Mark 15:42; 16:1; Luk 23:56; 24:1). •En uiteindelik ook die verwysing na die toekoms wanneer sy volgelinge sal moet vlug vir die verdrukkers en moet bid dat hulle nie in die winter of op die Sabbat sal moet vlug nie (Matt 24:20).
Handelinge In Handelinge is daar nege verwysings na die Sabbat. Drie hou nie verband met wat mense in Handelinge op die Sabbat doen nie (Hand
1:12: ’n sabbatsreis, en 13:27 en 15:21 waar eers Paulus en dan Jakobus verwys na die profete en die wet van Moses wat elke Sabbatdag voorgelees word). In die ander ses gaan dit almal oor dieselfde saak: Paulus se sendingreise (Hand 13:14,42,44; 16:13; 17:3; 18:4). Paulus was oortuig dat die evangelie eers vir die Jode, en dan vir die heidene bedoel was (Rom 1:16). Daarom het hy in elke stad waar hy gekom het en waar daar ’n sinagoge was, eers sinagoge toe gegaan om die Jode te probeer oortuig dat Jesus die Messias is (Hand 17:3; 18:4). En natuurlik was hulle net op die Sabbat by die sinagoge. Daarom is daar al die verwysings na die Sabbat tydens sy sendingreise. En dan die enkele verwysing na die Sabbat in die Briewe. Dis ’n negatiewe verwysing waar ons lees dat gelowiges hulle nie moet laat voorskryf dat hulle die Sabbatdag moet vier nie (Kol 2:16). Uiteindelik kry ons dan die een merkwaardige verwysing na die “sabbatsrus” wat oorbly vir die volk van God (Heb 4:9). Dit alles is ’n oorsig oor die verwysings na die Sabbat in die Bybel. As ’n mens so vinnig hierna kyk, lyk dit asof die Sabbat in die Bybel baie belangrik is tot op ’n sekere punt: die kruisiging en opwekking van Jesus. Daarna kom dit eintlik nog net voor tydens Paulus se sendingreise wanneer hy Jode probeer oortuig dat Jesus die Messias is.
Maar daar is nooit sprake van Christene wat op die Sabbat vergader nie. In Handelinge gaan dit oor Paulus wat Jode op die Sabbat in die sinagoge probeer oortuig dat Jesus die verwagte Messias is. Hierdie byeenkomste op die Sabbat was nie Christene wat bymekaar gekom het om die Here te aanbid nie, maar sendingsituasies waar Paulus met die Jode geredeneer het om hulle van Jesus te oortuig (Hand 17:1-2,17; 18:4). Die Sabbat was natuurlik die enigste dag waarop hy die groot groepe Jode bymekaar kon kry. Ons lees eintlik selde in Handelinge van Christene se byeenkomste. Daar is wel die een keer waar ons spesifiek lees dat hulle op die eerste dag van die week (Sondag) bymekaar is wanneer Paulus preek (Hand 20:7).
In die Briewe, waar dit oor die lewe van die Christene gaan, verdwyn die Sabbat eenvoudig, behalwe die een keer waar daar negatief na die Sabbat verwys word (Kol 2:16). Skynbaar het die Sabbatdag eenvoudig uit hulle lewe verdwyn. Onder 2.4 sal ons breedvoerig daarna kyk hoe belangrik dit is dat daar geen verwysings in die Briewe is dat Christene die Sabbat gevier het nie. Dis nie maar net “toevallig” dat dit nie vermeld word nie. Dit beteken eenvoudig dat hulle nie die Sabbat gevier het nie.
2.3 TERUGKEER NA DIE SABBAT?
Waarom is daar dan die terugkeer na die Sabbat? Is dit nie duidelik nie dat, alhoewel die Sabbat nog uitdruklik gegeld het in die Ou Testament en tydens Jesus se aardse bediening, dit verdwyn het ná sy opwekking? En is dit nie hoe dit gegaan het met baie ander uiters belangrike dinge in die Ou Testament soos die tempel, die offers, die priesters, die besnydenis en die feeste nie? (hfst 3 en 4) Die Christene wat wil terugkeer na sekere Ou-Testamentiese gebruike, is oortuig dat daar voldoende rede is, selfs dwingende redes, waarom die Sabbat tog nog net so onderhou moet word as in die tyd van die Ou Testament. •Die Sabbat is ’n ewige instelling. •Jesus het self die Sabbat gevier. Daarom sou ons volgens hulle nie daaraan kon twyfel dat die Christene ná Jesus se opwekking daarmee aangehou het nie, al word daar nie spesifiek daarna verwys nie. •Die Sabbat is deel van die tien gebooie, en Jesus verklaar self dat niks daarvan sal verander nie (Matt 5:17-20). •Die Here sê self dat almal op die nuwe aarde elke Sabbat voor Hom sal buig (Jes 66:23), en Jesus sou impliseer dat die Sabbat nog tot by sy wederkoms gevier sal word (Matt 24:20).
Kom ons kyk een vir een na hierdie argumente.
2.3.1 DIE SABBAT IS ’N EWIGE INSTELLING
Hier word verwys na Eksodus 31:16-17 waar ons uitdruklik in die 1953vertaling lees dat “die kinders van Israel” die Sabbat moet vier “as ’n ewige verbond”, en weer: die Sabbat moet vir hulle “vir ewig ’n teken wees”. Moet die Sabbat dan nie vir altyd gevier word nie? Dis opvallend dat die 1983-vertaling nie meer die woord “ewig” hier gebruik nie. Daar lees ons van ’n blywende verpligting wat altyd ’n teken sal wees. Maar is dit nie in elk geval ook nog duidelik nie? “Altyd” is tog altyd. Kom ons doen twee dinge: Ons kyk na die Hebreeuse woord wat met “ewig” of “altyd” vertaal word, en ons kyk na ander sake wat ook vir “ewig” of “altyd” moet geld. Die Hebreeuse woord wat hier in die 1953-vertaling met “ewig” vertaal is, word nogal dikwels gebruik. Maar dis opvallend hoe selde die 1953-vertaling dit regtig met “ewig” vertaal het. Hier volg net ’n paar voorbeelde waar selfs hierdie ou vertaling nie “ewig” gebruik nie: •“… Oorkant die Eufraat het julle vaders van oudsher gewoon …” (Jos 24:2); •“Want van ouds af het jy jou juk verbreek …” (Jer 2:20); •“… kyk en vra na die ou paaie …” (Jer 6:16); •“Die profete wat ... van ouds af …” (Jer 28:8); •“… die mense van die voortyd; …” (Eseg 26:20); •“… ’n eeue-oue nasie is dit …” (Jer 5:15).
In al hierdie gevalle is dit dieselfde Hebreeuse woord wat in Eksodus 31:16-17 met “ewig” vertaal is. En dis duidelik dat dit sinloos sou wees om dit in hierdie
gevalle ook met “ewig” te vertaal. Trouens die een ander keer wat die 1953vertaling dit wel met “ewig” vertaal het, lui dat die tempel “ewige” deure het (Ps 24:7,9). Maar die deure was tog net baie oud, nie ewig nie. Hierdie Hebreeuse woord word dus eerder gebruik vir ’n lang tyd. Maar iemand sou natuurlik tog nog daarop kon aandring dat juis wanneer dit vir die Sabbat gebruik word, dit werklik “ewig” moet beteken. Maar wat dan van die besnydenis? Net soos die Sabbat, is die besnydenis ook ’n “ewige verbond” (Gen 17:13 – 1953-vertaling). Maar ons weet dat Paulus baie sterk daarop aangedring het dat die besnydenis ná Christus nie kan voortgaan nie (Gal 5:2). Maar kom ons kyk ook na die “tent van samekoms”, die tent wat tydens die uittog as ontmoetingsplek met die Here gedien het. Die ou mense het dit nog geken as die “tabernakel”, wat die Hebreeuse woord is wat net in ons letters oorgeskryf is, soos “halleluja”. Hierdie tent was natuurlik net ’n tydelike ontmoetingsplek solank Israel in die woestyn was tydens die uittog. Maar omtrent elke bepaling en reëling oor hoe die priesters en die volk in hierdie tent moes optree, word ’n “ewige instelling” genoem (1953-vertaling). Hier volg net ’n paar van die talle voorbeelde (Lev 6:18,22; 7:34,36; 10:9,15; 16:29,31; 17:7; 23:14,21,31,41; 24:3). Trouens in een geval het selfs hierdie vertaling nie “ewig” gebruik nie, maar “vir altyd”, eenvoudig omdat “ewig” geen sin sou maak nie (Lev 25:30). In nie een van hierdie voorbeelde kan die Hebreeuse woord “ewig” beteken nie omdat die tent net vir ’n bepaalde tyd gebruik is. Daarom vertaal die 1983vertaling dit met “’n vaste instelling”, wat beteken dat dit sou geld solank die tent gebruik word. ’n Mens kan dus nie sondermeer aanvaar dat die Sabbat regtig vir ewig gehou sal moet word nie. Dan sal ons ook moet voortgaan met die besnydenis en al die gebruike in die tabernakel. Maar uit die gebruik van hierdie woord vir die tent van samekoms, die besnydenis en talle ander dinge, is dit duidelik dat die woord eerder sien op ’n lang tyd.
2.3.2 JESUS HET SELF DIE SABBAT GEHOU
Ons het alreeds daarna gekyk. Jesus het inderdaad self die Sabbat gehou. Hierdie Christene is nou oortuig dat ons moet aanvaar sy volgelinge het ná sy opwekking daarmee voortgegaan, en daarom moet ons ook. Dit gaan hier oor twee sake: Oor Jesus, en dan oor die eerste Christene.
Jesus Daar was keer op keer ’n konfrontasie oor die Sabbat tussen Hom en die godsdiensleiers, maar dit het gegaan oor die vraag hoe die Sabbat gehou moet word. Daar is geen teken dat Jesus self met die Sabbat as ’n instelling ’n probleem gehad het nie. Jesus se aanvaarding van die Sabbat was eenvoudig deel van sy lewe as getroue Ou-Testamentiese Jood. Moet ons Hom dan nie hierin navolg nie? Hy is tog ons voorbeeld. As ons na die lewe van Jesus kyk, is dit gou duidelik dat Jesus ook baie ander dinge gedoen het wat ons as Christene nie meer doen nie: •Hy is besny (Luk 2:21). •Hy is in die tempel aan die Here gewy (Luk 2:21,22). •Hy het gereeld die sinagoge en die tempel besoek. •Hy het die feeste van die Ou Testament gevier. •Hy het onreines wat Hy genees, beveel om hulle aan die priesters te gaan wys (Luk 17:14). •Hy het aanvaar sy volgelinge neem hulle offers in die tempel na die altaar toe (Matt 5:23,24).
Daar is regtig baie min Christene wat Jesus nog in al hierdie gebruike navolg! Kies ons nou eenvoudig watter en los die ander? Kom ons kyk mooi hierna. Jesus was nie ’n Christen nie. Hy was ’n Jood. Sy volgelinge is later eers Christene genoem (Hand 11:26). Selfs die dissipels en die eerste bekeerlinge was nog Jode. Die belangrikste verskil met die ander Jode was dat hulle geglo het die Messias het al gekom. Jesus was, godsdienstig gesproke, ’n Ou-Testamentiese gelowige. Hy het die OuTestamentiese gebruike aanvaar, al het Hy baie kritiek gehad op die manier waarop die godsdiensleiers dit uitgevoer het. Natuurlik is Jesus ons voorbeeld (1 Pet 2:21). Natuurlik moet ons Hom navolg. Maar waarin? In sy besnydenis? In sy sinagoge-besoeke? In sy Joodse kleredrag? In die feit dat Hy nie ’n vaste werk of ’n vaste adres of vaste eiendom gehad het nie? Is dit nie ’n bietjie willekeurig om juis sy Sabbatsonderhouding uit te sonder nie? Was sy besnydenis en sy tempelbesoeke en sy raad oor offers nie net so belangrik nie? Waarin is ons geroepe om Jesus na te volg? In sy kruisdra, in sy diens aan mense in nood, in sy nederigheid, in sy reinheid, en noem maar op. Dit beteken dat dit nie gaan oor die formele gebruike nie, maar oor die geestelike sake en die etiese waardes.
2.3.3 MATTEUS 20:24
Maar wat dan van die uitspraak van Jesus in die profetiese rede dat sy volgelinge moet bid dat hulle nie in die winter of op die Sabbat sal moet vlug nie? (Matt 24:20). Beteken dit Hy het verwag sy volgelinge sal die Sabbat hou? Wat het Jesus met hierdie uitspraak bedoel? Dis deel van sy profetiese rede. Dit gaan oor sy wederkoms en die vervolgings wat sy volgelinge sal beleef. In die voorafgaande verse sê Jesus dat dit baie swaar sal gaan wanneer hulle moet vlug. Dit sal ’n tyd vol ontberings wees en hulle sal baie haastig moet vlug (24:16-17; ook Mark 13:15-16 en Luk 21:21). Hy vervolg dan dat dié wat bykomende laste dra, buitengewoon swaar sal kry (vers 19). En dan sê Hy: “Bid dat julle nie in die winter of op die Sabbatdag hoef te vlug nie.” Waarom nie in die winter nie? Dit sal die vlug nog swaarder maak, want in die winter is daar in Palestina reën, koue, stormagtige weer en deurweekte paaie. In dieselfde asem sê Jesus dat hulle moet bid dat hulle vlug nie op die Sabbat moet plaasvind nie. Waarom? Seker om dieselfde rede: dit sal hulle vlug bemoeilik. Hoe? ’n Mens kan twee antwoorde oorweeg. Omdat die Christene nog die Sabbat sou hou, sal hulle uit eerbied vir die Sabbat nie op dié dag mag vlug nie. Hulle sou in gehoorsaamheid aan die vierde gebod moes rus, en dan sou die vyand hulle natuurlik oorrompel. Maar daar is ’n ander moontlikheid. Jesus bedoel dat die Jode dit vir sy volgelinge op die Sabbat baie moeilik sou maak. Hulle sou byvoorbeeld nie voedsel kon koop nie, en voor allerlei ander beperkings staan. Fanatieke Jode sou dit as hulle plig beskou om hulle vlug te kortwiek. Watter een van hierdie twee betekenisse is die waarskynlikste? Sit daar nie ’n vreemde beeld van Jesus agter die eerste een nie? Sou Jesus regtig gemeen het sy volgelinge moet op die Sabbat rus al is hulle lewe in gevaar? Is dít die Jesus van
die Evangelies, die Jesus wat sy dissipels verdedig as hulle op die Sabbat koringare pluk oor hulle honger is, en siekes op die Sabbat genees? Is Hy nie die Een wat gesê het die mens is nie vir die Sabbat gemaak nie, maar die Sabbat vir die mens (Mark 2:27)? Dis dus sinvoller om die tweede rede te aanvaar: Dat die Sabbat dieselfde probleme as die winter sou oplewer. Dit sou omstandighede meebring wat hulle vlug sou bemoeilik. Dit beteken dat ons nie uit hierdie woorde van Jesus kan aflei dat Hy bedoel het dat sy volgelinge na sy opwekking nog die Sabbat moes hou nie. Jesaja 66:22-23 sal in hoofstuk 3 behandel word. Maar intussen is dit in elk geval duidelik dat Jesus self die Sabbat gehou het net soos Hy getrou was aan die ander aspekte van die Ou-Testamentiese kultus: die besnydenis, die tempel, die feeste, die priesterdiens en die offers.
2.3.4 HET DIE VROEË CHRISTENE DIE SABBAT GEHOU?
Ná die uitstorting van die Gees het die dissipels en die Joodse Christene nog lank ’n besondere verbondenheid aan die Ou-Testamentiese vorm van godsdiens gehad. Ons lees spesifiek van hulle tempelbesoek, die feeste en die besnydenis (Hand 3:1 ev; 20:16; 21:20-26). Trouens, die vroeë Christene was eintlik nog Jode wat net, anders as hulle mede-Jode, geglo het die Messias het gekom, gekruisig en opgewek is, en hulle wou net hulle mede-Jode daarvan oortuig. Dis eers gaandeweg dat daar ’n afstand tussen hierdie twee groepe begin kom het. En skynbaar was die Sabbat deel van hierdie afstand. So op die oog af lyk dit asof Paulus die Sabbat nog streng gehou het. Immers volgens Handelinge is hy keer op keer op die Sabbat in ’n sinagoge (Hand 13:14,42; 17:2; 18:4). Maar wat doen Hy daar? Is dit ’n byeenkoms van Christene? Of ontmoet hy Jode om hulle te probeer oortuig dat Jesus die Messias is? “Hou hulle kerk,” of redeneer hy met hulle? (Hand 17:2, en al die ander gevalle.) Paulus gaan op die Sabbat na die sinagoge omdat dit die enigste dag is waarop Hy die Jode daar bymekaar sal kry om die evangelie van Jesus aan hulle te bring en hulle met argumente te probeer oortuig dat Jesus die Messias is (Hand 17:3). Uit Handelinge 13:42-44 is dit duidelik dat hy dit net op Sabbatdae kon doen. Dit was egter nie byeenkomste van Christene nie. Ná die opwekking van Jesus word daar nooit verwys na ’n byeenkoms van Christene op ’n Sabbat nie. Trouens, behalwe vir die een negatiewe verwysing na die Sabbat (Kol 2:16), kom die woord “Sabbat” nooit in die Briewe of in Openbaring voor nie. Hierdie een negatiewe verwysing in die Briewe lui: Moenie “dat iemand vir julle voorskrywe ... dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die Sabbatdag moet vier nie. Dis alles maar net ’n skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus” (Kol 2:16-20). Paulus noem die Sabbat saam met die feeste ’n “skaduwee van wat sou kom”. Dis ook hoe Hebreërs oor die wet van Moses praat (waarvan die Sabbat ’n deel is). Die wet was “slegs ’n skadubeeld van die weldade wat sou kom,” die “weldade” wat deur Jesus gekom het (Heb
10:1-4). En Paulus vervolg dan in Kolossense dat Christene dood is vir hierdie wettiese godsdienstige reëls (Kol 2:20). Ons kan mos nie terugdraai na die skaduwee as die Een wie se skaduwee dit is, Self gekom het nie. Dis dus verstaanbaar waarom die Sabbat skynbaar eenvoudig verdwyn het uit die lewe van die vroeë Christene. Trouens indien die Christene uit die heidene wel nog die Sabbat moes hou, sou dit ’n geweldige probleem geword het, baie erger as die besnydenis. Baie van hulle was slawe wat vir heidense eienaars gewerk het. Hierdie eienaars sou hulle nooit toegelaat het om een dag in die week nie te werk nie. In die meeste gevalle sou hulle lewe op die spel gewees het. Dit sou beteken het dat die apostels in die Briewe baie aandag hieraan sou moes gee. Hulle sou die Christenslawe moes raad gee hoe om hierdie probleem te hanteer. Maar ons kry nie eens ’n spoor daarvan in die Briewe nie. Selfs ook nie in Handelinge 15 nie. Dáár gaan dit oor die vraag of die heidene wat tot bekering kom, nog die wet moet hou (15:5). Dan is die konkrete voorbeeld uit die wet die besnydenis (Hand 15:1). En die Sabbat kom nie eens ter sprake nie terwyl dit ’n veel dringender probleem sou gewees het. Dit beteken skynbaar dat selfs die Joodse Christene nie van die heiden-Christene verwag het om die Sabbat te hou nie. Dit lyk dus of die Sabbat uit die lewe van die heiden-Christene verdwyn het, al kan ’n mens aanneem dat baie van die Joodse Christene aanvanklik nog daarmee voortgegaan het, net soos met die besnydenis (Hand 21:20-21). Maar dit was natuurlik in Jerusalem waar dit maklik was omdat die Jode daarmee voorgegaan het. Maar ons weet ook uit die geskiedenis dat sekere gemeentes nog vir ’n paar eeue lank sowel die Sabbat as die Sondag onderhou het. Die feit dat hulle albei, Sabbat én Sondag, onderhou het, kan beteken dat hulle deeglik daarvan bewus was dat dit twee verskillende dae was, en nie dieselfde soort dag nie (2.7).
2.4 KOLOSSENSE 2:16
Tog is daar Christene wat oortuig is dat Kolossense 2:16 ’n ander betekenis het. Hulle meen dit gaan daarin nie om die gewone weeklikse Sabbat nie. Daar word onder andere twee argumente aangebied. •Hulle meen die Griekse woord wat hier vir “Sabbat” gebruik word, is in die meervoud. Dit sou eintlik met “Sabbatte” vertaal moes word. •En hierdie “Sabbatte” (feesdae) sou dan nie die gewone weeklikse Sabbat wees nie. Daar sou ook ander feesdae gewees het wat “Sabbat” genoem was.
Kom ons kyk eers na die Griekse woord wat vir “Sabbat” gebruik word. Die Griekse woord het die vorm van ’n meervoud. Maar dit is presies dieselfde woord wat in die Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuagint) gebruik word vir die weeklikse Sabbat (Eks 20:8). Dit is dus nie werklik ’n meervoud nie, dit lyk net na ’n meervoud. Dit is in werklikheid die Hebreeuse woord wat net in Griekse letters geskryf is, soos ook ander Hebreeuse woorde soos “amen” en “halleluja”. Omdat dit in die Ou Testament die woord vir die weeklikse Sabbat is, gaan dit dus inderdaad om die gewone weeklikse Sabbat wat net ’n skaduwee was van Christus. Daarom hoef die gemeente nie met die Sabbat voort te gaan nie. Die Een wat die skadu vooruitgegooi het, het Self gekom. Maar daar is nog die bewering dat “Sabbat” hier nie verwys na die weeklikse Sabbat nie, maar na ander feesdae wat ook só genoem is. Dit is inderdaad moontlik dat daar enkele gevalle is waar ’n ander feesdag as die gewone Sabbat ook “Sabbat” genoem word (Lev 16:31; 23:9,15,32). Dit gaan hier onder andere oor die groot versoendag. Maar dit kan nie wees wat Paulus hier onder “Sabbat” bedoel nie. Hy noem dan klaar hierdie feeste onder “die jaarlikse feeste” (“die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbat” – Kol 2:16).
Wat egter veel belangriker is, is die feit dat hy hier die staande uitdrukking gebruik wat oor en oor in die Ou Testament vir Israel se totale feeskompleks gebruik word: “Die jaarlikse feeste, die nuwemaansfees, en die Sabbat”. Waar hierdie uitdrukking in die Ou Testament gebruik word, beteken “Sabbat” altyd die weeklikse Sabbatdag. Dit kan dus nie hier skielik na ’n ander feesdag verwys nie. Kyk gerus na hierdie uitdrukking in die Ou Testament (1 Kron 23:31; 2 Kron 2:4; 31:3; Neh 10:33; Eseg 45:17; Hos 2:10. Kyk ook na 2 Kon 4:23; Jes 1:13; Eseg 46:1,3; Amos 8:5; Jes 66:23; Klaagl 2:6). Dit is ook duidelik dat “Sabbat” in hierdie uitdrukking die weeklikse Sabbat bedoel (Jes 66:23; Eseg 45:17; Neh 10:33). ’n Mens kom dus nie maklik weg van die oortuiging dat die Sabbat nie net skynbaar verdwyn het uit die lewe van die vroeë Christene nie, maar selfs dat Paulus die gelowiges heeltemal vry wou maak daarvan. Hierdie oortuiging word nog versterk deur sy opmerking in Galasiërs. Onthou die eintlike stryd in Galasiërs gaan oor die wet en die besnydenis. Maar dit raak ook ander gebruike uit die Ou Testament. Die dwaalleraars in Galasië is Fariseërs wat tot bekering gekom het, maar nie van die Ou-Testamentiese reste van hulle geloof wou afsien nie. Hulle eis dat die heidene wat Christene word, die wet moet hou, en dan veral besny moet word. Ons kry meer kere tekens hiervan in die Nuwe Testament, onder andere ook in Handelinge 15:2,5. Paulus wys hierdie eise skerp af – so skerp dat dit nie eintlik skerper kán nie (Gal 5:2-4). Dis ’n kwessie van alles of niks. Maar dan kom sommige ander gebruike uit die Ou Testament ook ter sprake. “Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk onder julle was dalk tevergeefs” (Gal 4:10-11). Daar is gelowiges wat meen dit gaan hier ook nie oor die weeklikse Sabbat nie, maar oor hierdie (moontlike) ander “Sabbatte”. Maar dit is om ’n paar redes nie regtig moontlik nie. Dis duidelik dat Paulus dieselfde bedoel as in Kolossense. Dit is in al sy Briewe net op hierdie twee plekke waar hy die vreemde uitdrukking gebruik: “wettiese godsdienstige reëls” (Gal 4:9; Kol 2:20). En albei kere gaan dit oor dieselfde feeskompleks. In Galasiërs is hy selfs nog baie negatiewer as in Kolossense. Hy noem dit hier: “die minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls”.
Hy skryf dus die hele feeskomplek radikaal af. Verder is die reeks woorde wat hy gebruik duidelik ’n aanduiding van die totale feeskompleks van die Ou Testament. Hy voeg eintlik by die lys in Kolossense nog een soort fees by. Naas die dagfees (Sabbat), die maandfees (nuwemaansfees), en die “feesgeleenthede” (die jaarlikse feeste), voeg hy ook die “jare” by, dit is die Sabbatjaar- en die jubeljaarfees, dus letterlik al die feeste. En sy waarskuwing is baie ernstig. Hy is bang hulle deel nie regtig meer in die genade as hulle met hierdie gebruike voortgaan nie, hulle het dan nie regtig gelowiges geword nie. Dit is presies ook wat hy oor hulle onderhouding van die wet en die besnydenis geskryf het (5:2-4). Dit beteken tog dis net so gevaarlik om met hierdie feeste aan te hou as om besny te word. Volgens Paulus moet mense kies: •óf Jesus; •óf die gebruike van die Ou Testament soos die besnydenis en die Sabbat en die feeste.
Ons sal later sien dat die skrywer aan die Hebreërs verder nog die tempel, die priesters, en die offers byvoeg. Dit gaan dus op die ou end oor die hele OuTestamentiese kultus wat nie meer tuishoort in Christene se lewe nie. Hierdie Ou-Testamentiese kultus was ’n eenheid. Daaruit kan ’n mens nie willekeurig ’n paar kies en die ander los nie.
2.5 EN DIE SABBAT AS DEEL VAN DIE TIEN GEBOOIE (HEB 4:9)?
Maar kan die Sabbat sommer net verdwyn? Dis tog deel van die tien gebooie. En Jesus het ’n baie sterk uitpraak oor die wet wat geldig bly (Matt 5:17-19). Dit geld dan tog elke gebod, ook die vierde gebod. Die wet speel ’n belangrike rol in die Bergrede, veral in Matteus 5. Waarom? Herhaal Jesus maar net die wet? Almal het tog die wet goed geken. Maar onthou die godsdiensleiers het die wet geformaliseer en net letterlik geïnterpreteer. Daarom verklaar Jesus dat Hy aan die wet sy “volle betekenis” gaan gee (Matt 5:17). Hoe doen Hy dit? Jesus radikaliseer die wet, Hy gee dit ’n radikaler en dieper betekenis, dieper as dit wat die godsdiensleiers besef het. Eintlik gee Hy die wet sy oorspronklike betekenis, en verwerp daarmee die wet soos hulle dit geformaliseer het: •Hy radikaliseer die gebod dat jy nie mag moord pleeg nie: Jy kan selfs net met jou woorde iemand vermoor (Matt 5:21-22). •Hy radikaliseer die gebod teen egbreuk: Jy kan selfs net met jou oë en in jou hart onrein wees en egbreuk pleeg (Matt 5:27-30).
Dit beteken die letterlike betekenis van die wet word tot ’n geestelike vlak verdiep. Paulus gaan konsekwent hiermee voort. Die gebod lui dat jy nie mag steel nie. Paulus verdiep dit tot die vlak dat jy hard moet werk om genoeg te hê om armes te help, anders steel jy nog steeds (Ef 4:28). Ons het gesien dat die Sabbat in die Nuwe Testament skynbaar uit die lewe van die Christene verdwyn ná die opwekking van Jesus. Het die vierde gebod dan verdwyn?
Nee, hier moet tog seker iets meer wees. Jesus het nie sommige gebooie kom afskaf nie. Hy het juis verklaar dat Hy hulle hul “volle betekenis” gaan gee (Matt 5:17). Ons het reeds hierna gekyk, en gesien Hy het eintlik die gebooie geradikaliseer, en hulle hul eintlike, dieper, geestelike betekenis gegee. En die Sabbatsgebod? Ons het dan gesien die Sabbat het eenvoudig verdwyn uit die lewe van die vroeë Christene. Die woord “Sabbat” kom in al Paulus se Briewe net een keer voor, en dan nog in ’n negatiewe betekenis (Kol 2:16). Terwyl die ander gebooie, in hulle geradikaliseerde vorm, oor en oor op die lewe van die gelowiges toegepas word, kom die vierde gebod in sy oorspronklike vorm nooit by Paulus na vore nie. Dit kan mos net nie waar wees dat die apostel die heidene wat pas tot bekering gekom het, aan al die ander gebooie moes herinner het, maar dat hulle so absoluut getrou die Sabbat gehou het dat hy nooit eens nodig gehad het om daarna te verwys nie. Ons kry mooi voorbeelde hoe die gebooie een-een op die lewe van die gelowiges toegepas word (oa Ef 4:25 – 5:4; Kol 3:5-17). Agtereenvolgens is daar in Efesiërs 4 – 5 vermanings gebaseer op die volgende gebooie: •die 9e: 4:25; •die 8e: 4:28; •die 3e: 4:29; •die 6e: 4:31; •die 7e: 5:3,5; en •die 1e: 5:3,5.
Maar nêrens word die vierde gebod in sy oorspronklike vorm aan ’n gemeente voorgehou nie. En indien die Sabbat nog deur die gemeentes gehou was, sou juis hierdie gebod geweldige probleme veroorsaak het vir die Christene wat slawe was maar elke dag vir hulle eienaars moes werk.
Hebreërs 4:9 Maar dan kry ons iets oor die Sabbat in Hebreërs, en dan juis ook in sy geradikaliseerde vorm. Die skrywer maak eintlik ’n nuwe woord: “sabbatsrus”. “Daar wag dus nog steeds ’n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingegaan het, rus van sy werk, net soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan ...” (Heb 4:9). Dit is duidelik ’n verwysing na die vierde gebod. Maar in ’n nuwe vorm. Dit gaan nog steeds oor die Sabbat en oor rus. Maar ons rus word nou vergelyk met God se rus. Ons moet soos God rus. Wat beteken die vierde gebod nou? •Tot by Jesus se opstanding was dit: Rus een dag in die week, op die Sabbatdag. •Nou is dit: Gaan in God se rus in, rus elke dag van die week.
Van watter werk moet ons rus? In die Ou Testament was dit van gewone werk. Maar nou is dit van ons sonde, van ons ongehoorsaamheid (4:11). In God se rus is daar nie sonde nie. Wat beteken die Sabbatsgebod dan in sy geradikaliseerde vorm? Volle oorgawe aan die Here elke dag van ons lewe. Hou dus asseblief aan om die vierde gebod te hou, maar net soos die ander gebooie, nou in sy nuwe vorm, in sy radikale vorm: Rus elke dag van jou sonde, dien die Here met jou hele lewe. Dít is die sabbatsrus wat ná Jesus se opwekking oorbly vir God se kinders.
2.6 EN SONDAG?
Nêrens in die Nuwe Testament word ons beveel om die eerste dag van die week, Sondag, te vier nie. En nêrens in die Nuwe Testament word Sondag met die vierde gebod in verband gebring nie. Ons Sondagviering is iets anders. Die vierde gebod het nie net verskuif van Saterdag na Sondag nie. Dit het verruim van Saterdag na elke dag. Sondag het bygekom as iets nuuts. Baie van ons voorouers het dit nie só verstaan nie. Hulle was oortuig dat die Sabbat van die Ou Testament oorgegaan het na die Sondag van die Nuwe Testament. Alles sou net dieselfde gebly het, al die bepalings oor die Sabbat wat ons in die Ou Testament kry, sou nog van krag gewees het, maar dit sou alles net oorgeskuif het na die eerste dag van die week, Sondag. Vir eeue lank het baie Christene nog probeer om die Sabbatswette van die Ou Testament op Sondag te hou. Hulle het Saterdag kos gemaak wat Sondag geëet is, hulle het nie op Sondag gekoop nie, nie (onnodig) gery nie, geen sport beoefen of koerante gelees nie, nie geswem nie selfs as hulle by die see vakansie hou nie, en nog duisend ander dinge nie gedoen nie. Dit het hulle taamlik weerloos gelaat teen Christene wat die Sabbat nog op Saterdag gevier het. Hulle het eenvoudig gevra waar dié verandering in die Nuwe Testament voorkom. Volgens hulle het hierdie Christene presies reg opgetree, maar hulle moes dit net op die regte dag doen, Saterdag, die Sabbat. Die sewende dag is die Sabbat. Maar intussen het dit tog duidelik geword dat die Nuwe Testament nie ’n verband lê tussen Sondag en die vierde gebod nie. Nêrens in die Nuwe Testament word die Sondag in terme van die Sabbat uitgedruk nie. Sondag het skynbaar spontaan en onbepland gegroei. Kyk na die eerste spore van iets besonders op die eerste dag van die week:
•Dat Jesus op die eerste dag van die week opgewek word. •Dat Jesus dan daardie selfde aand aan sy dissipels verskyn. •Dat Hy dan juis agt dae daarna weer aan hulle verskyn – weer op die eerste dag (Joh 20:19,26). •En dat die Gees ook op hierdie dag uitgestort is – veertig dae na die hemelvaart (Hand 1:3). •Vir die gemeente in Korinte skryf Paulus om elke keer op die eerste dag van die week iets vir die armes opsy te sit (1 Kor 16:2). •Hy spreek die gelowiges in Troas op die eerste dag van die week toe (Hand 20:7-14). •Later begin die Christene hierdie dag “die dag van die Here” noem, wat die besondere betekenis beklemtoon wat hierdie dag gaandeweg vir hulle gekry het. Johannes is op “die dag van die Here” deur die Gees meegevoer om die wonderlike gesigte te sien (Openb 1:10).
Kom ons kyk in meer besonderhede na ’n paar van hierdie sake. Dit hoef nie op sigself so opvallend te wees dat Jesus die aand van sy opstanding aan sy dissipels verskyn nie, maar Johannes se besondere beklemtoning dat dit juis die eerste dag van die week was, is opvallend. Johannes skryf: “Op die aand van daardie dag” wat sy opstandingsdag is, en dan voeg hy nog by: “die eerste dag van die week” (20:19). Die 1983-vertaling laat dit eintlik heeltemal weg, maar ander vertalings gee die Grieks duidelik weer soos die New Jerusalem Bible (NJB): “In the evening of that same day, the first day of the week ...” Vir die gemeente in Korinte skryf hy om “elke eerste dag van die week” (1953vertaling) iets vir die armes opsy te sit (1 Kor 16:2).Maar kyk presies hoe skryf hy dit. Hy sê nie hulle moet dit saamvat “kerk toe” nie. Hy sê hulle moet dit “tuis” opsy sit. Waarom? Die heidene het nie besondere betekenis aan die eerste dag gegee nie, daarom het die gelowige bediendes nie spesifiek op die eerste dag van die week hulle loon gekry nie, trouens dis waarskynlik so dat hulle glad nie eens weekliks loon ontvang het nie. Waarom dan juis op hierdie dag tuis iets
opsy sit? Ek weet van geen ander rede nie as dat hierdie dag toe alreeds vir hulle ’n besondere godsdienstige betekenis moes gehad het. En dan die byeenkoms die eerste dag van die week in Troas. Paulus is so haastig om betyds vir die Pinksterfees in Jerusalem te wees (20:16) dat Éfese se ouderlinge spesiaal kus toe moet kom om hom te ontmoet. Hy het nie tyd om in die binneland in na hulle te reis nie. Maar intussen wag hy sewe dae in Troas om die gemeente die eerste dag van die week te ontmoet! (20:6-7) Waarom? Seker omdat hulle net op Sondae bymekaar gekom het. Dit alles beteken dat Sondag reeds vroeg in die tyd van die Nuwe Testament vir die Christene besondere betekenis begin kry het. Maar dit was nie ’n vervanging van die Sabbat nie. Dis ’n ander dag, ’n nuwe dag, die dag van Jesus se opwekking, die dag toe die betekenis van sy kruisdood deur God bevestig is. Dis ’n dag wat werd is om te vier – met gejuig.
3
DIE FEESTE
3.1 DIE FEESTE IN DIE NUWE TESTAMENT
Die jaarlikse feeste het al ter sprake gekom. In die Ou Testament word hulle dikwels saam met die Sabbat genoem. En ook in die Nuwe Testament verbind Paulus die twee. Trouens selfs die jaarfeeste, dit is die Sabbatsjaar en die jubeljaar, is deel van die feeskompleks. Dis interessant dat daar in die sinoptiese Evangelies eers aan die einde van Jesus se lewe, tydens sy verhoor, na sommige van hierdie feeste verwys word. Dis eintlik logies, want hierdie Evangelies vermeld geen besoeke van Jesus aan Jerusalem voor sy gevangeneming en verhoor nie. En die feeste was natuurlik in Jerusalem by die tempel gevier. Daar word verwys na die Paasfees (Matt 26:2, wat ook “pasga” genoem is, Luk 22:1), en die fees van die ongesuurde brode wat ’n week lank geduur het (Matt 26:17). Tegnies was dit twee verskillende feeste, eers die Paasfees die aand van 14 Nisan, en dan die fees van die ongesuurde brode van 15-22 Nisan. Maar in die praktyk het hulle dit as een fees beskou. Die fees van die eerstelinge is ook in hierdie week gevier. Maar Johannes het meer besonderhede as die sinoptiese Evangelies. Hy vertel dat Jesus meer kere in Jerusalem was en dikwels by feeste teenwoordig was: •die Paasfees saam met die fees van die ongesuurde brode (2:13,23; 6:4; 12:1; 13:1); •die huttefees (7:2,37); •die fees van die tempelwyding (10:2); en •moontlik ook die purimfees (5:1).
Ná die opwekking van Jesus lees ons in die Nuwe Testament nog net van die
Pinksterfees en die fees van die ongesuurde brode (Hand 20:6, 16). Dit was op die Joodse pinksterfees dat die Heilige Gees uitgestort is. Dit is interessant dat ons die Ou-Testamentiese naam van hierdie fees behou het vir ons viering van die koms van die Gees: “Pinksterfees”. Die vroeë Christene was ook net konsekwent toe hulle aanvanklik nog die feeste saam met die tempeldiens onderhou het (Hand 18:21 – 1953-vertaling; 20:16; 21:26). Dit was alles saam een groot eenheid. Maar soos die verwydering tussen hulle en die Jode groter geword het, het die hele feeskompleks skynbaar uit hulle lewe verdwyn. Trouens, Paulus het later selfs baie negatief na die feeste verwys. In Kolossense noem hy hulle saam met die Sabbat “’n skaduwee” van Christus (2:16-17), en in Galasiërs wys hy die viering van die feeste skerp af (4:9-11). Hy bring die feeste, wat die Sabbat insluit, in verband met “daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls” en hy is bevrees dat dié wat dit nog vier, dalk nie regtig tot geloof gekom het nie (4:11). Dit is moeilik om hieruit iets anders af te lei as dat Christene nie hierdie feeste moet vier nie. Maar daar is Christene wat anders hieroor dink. Sommige van hulle sien selfs in die feeste geweldige belangrike betekenis. Dit sou ’n voorafskaduwing van God se hele verlossingsplan wees.
3.2 DIE FEESTE EN GOD SE REDDINGSPLAN?
3.2.1 WORD DIE FEESTE IN JESUS VERVUL?
Onder Messiaanse Jode en sommige Christene wat wil teruggaan na die Ou Testament is daar ’n besondere belangstelling in die feeste. Sommige is oortuig dat die feeste vooruitwys na die hele reddingsplan van God met die wêreld. En sommige dring dan daarop aan dat ons dit vandag nog moet vier. Kom ons kyk eers na die gedagte dat die feeste die voorafskaduwing van God se reddingsplan is. Hulle werk baie sterk met die omvattende voorskrif oor die feeste in Levitikus 23, maar daar is baie ander gegewens en belangrike inligting op ’n hele paar ander plekke soos Eksodus 34, Numeri 29 en Deuteronomium 16. Volgens Levitikus 23 is daar sewe feeste wat gedurende die jaar gevier moet word, vier in die voorjaar (lentetyd) en drie in die najaar (herfstyd). Voorjaar: Paasfees, die fees van die ongesuurde brode, die fees van die eerstelinge, en die Pinksterfees. Najaar: Die ramshoringfees, die groot versoendag, en die huttefees. Daar is feeste wat nie hier genoem word nie, soos die nuwemaansfeeste, die Sabbatsjaar en die jubeljaar. Die inhoud en die doel van die feeste is op sigself ’n interessante saak, maar die besonderhede is nie nou belangrik vir ons onderwerp nie. Dit gaan nou oor die vraag of hierdie feeste voortekens (“profesieë”) is van God se reddingsplan wat beteken dat hierdie feeste iets soos beloftes is wat vervul word in die heilsdade van Christus. Elke fees sou dan vooruitwys na ’n bepaalde gebeurtenis in die groot heilsplan van God, veral in die lewe van Jesus. Die eerste vier feeste sou reeds “vervul” wees, dit beteken dat hulle vooruitgewys het na heel spesifieke gebeurtenisse wat reeds plaasgevind het in Jesus se lewe en die koms van die Gees: •Die Paasfees sou na Jesus se kruisiging verwys.
•Die fees van die ongesuurde brode na sy sondeloosheid, en sommige meen ook na sy begrafnis. •Die eerstelingefees na sy opstanding. •Die Pinksterfees na die uitstorting van die Heilige Gees.
Dan volg die drie herfsfeeste wat nog nie “vervul” sou wees nie, maar wat sou vooruitwys na gebeurtenisse wat nog in die toekoms lê: •Die ramshoringfees of die fees van die trompette sou verwys na die wegraping. •Die groot versoendag na die bruilof van die Lam. •Die huttefees na die duisendjarige vrederyk.
Almal stem natuurlik ook nie presies saam oor die spesifieke gebeurtenis waarin die fees “vervul” sou word nie. Ek het maar net die algemeenste betekenis van elkeen gegee. Kom ons vra ’n paar vrae. •Die eerste vraag moet seker wees of daar regtig grond in die Bybel is om die feeste só te interpreteer? •En dan die vraag waarom sekere feeste “uitval”, dus nie na iets vooruit verwys nie? •En uiteindelik die vraag presies waarna elke fees sou vooruitwys?
Bybelse gronde? Is daar regtig gronde in die Bybel om te aanvaar dat die sewe feeste bedoel is as ’n vooruitskouing van die heilsplan van God? Kom ons kyk na die argumente wat ’n mens kry. •Daar word verwys na Amos 3:7: “Die Here God doen niks as Hy nie sy besluit
bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie.” ’n Mens sou dit seker op die feeste kon toepas as jy wil, maar waar het die Here dan vir die profete gesê na watter heilswerk van God elke fees verwys? Beteken hierdie vers nie maar net dat ’n mens in die Ou Testament op die uitkyk moet wees vir profesieë wat later vervul sal word in die werk van God nie? En daarvan is daar natuurlik baie voorbeelde. Veral Matteus haal talle profesieë aan wat in die lewe van Jesus vervul is. Maar ek kry nêrens ’n aanduiding van die spesifieke betekenis van enige bepaalde fees nie. •Verder word gesê dat die Hebreeus vir “feeste” letterlik “vasgestelde tye” sou beteken. Daaruit word dan afgelei dat God presies die vasgestelde tye en volgorde beplan het wanneer en hoe elk van die sewe feeste vervul sal word. Maar is dit nie ’n bietjie vergesog nie? Die woord vir “fees” het inderdaad verskillende betekenisse soos afspraak (Rigt 20:38), afgesproke byeenkoms (1 Sam 20:35), afgesproke tyd (2 Sam 20:5), fees, feestyd en feesbyeenkoms. Maar daar is niks in hierdie betekenisse wat in die toekoms in wys na iets wat later moet gebeur nie. Die fees self is ’n “afgesproke byeenkoms”. God spreek in Levitikus 23 af wanneer elke fees moet plaasvind. Maar daar is geen sprake van hoe elke fees vervul sal word nie. •Soms kry ’n mens selfs argumente en teksverwysings wat jy op geen manier in verband met die feeste kan bring nie. So word “die gelukkige dae wat ons verwag” (Tit 2:13) gesien as die hoop van gelowiges dat die drie “onvervulde” feeste nog vervul sal word. Word dit nie bietjie willekeurig nie? •Die uitdrukking “gewyde byeenkomste” in Levitikus 23:4 word in die King James-vertaling weergegee met “holy convocations”. Dit is ’n verwysing na die viering van die sewe feeste. Die feeste sal met byeenkomste (“convocations”) van die volk gevier word (23:8,21,24,27,36). Maar nou word beweer dat die oorspronklik betekenis van die Hebreeuse woord vir “byeenkomste” eintlik “repetisies” is, wat dan sou beteken dat elke feesviering eintlik ’n repetisie (vooraf-oefening) is van die heilsdaad waarna dit verwys en wat later sal plaasvind, soos die kruisiging of die opstanding. Maar ek kry nêrens enige aanduiding dat die Hebreeuse woord oorspronklik “repetisie” beteken het nie. En selfs al sou dit wees, sou elke feesviering dan tog net ’n repetisie (herhaling) van die fees wees, net nóg ’n viering. Maar dit het mos niks te doen met die “vervulling” van die fees in ’n toekomstige heilsdaad van God nie. •Ek weet van geen verwysing in die Bybel dat die feeste na groot heilsdade
verwys nie. Die feeste word eenvoudig nêrens as ’n soort profesie aangebied nie. Die feeste het hulle eie, wonderlike betekenis en waarde gehad. Dit is wel so dat sekere heilsdade later tydens bepaalde feeste plaasgevind het (soos die kruisiging, die koms van die Gees), maar selfs in daardie gevalle is daar geen aanduiding dat die fees eintlik ’n soort profesie van daardie heilsdaad was sodat die fees in die heilsdaad vervul is nie. Ons sal wel later kyk na die manier waarop die Nuwe Testament by sekere gebeurtenisse (soos die kruisiging en die koms van die Gees) terugverwys na die paasfees en die pinksterfees van die Ou Testament. Maar ook dáár is daar geen aanduiding dat hierdie feeste vooruitgewys het na hierdie gebeurtenisse nie.
Ek kry dus nie grond in die Bybel om te aanvaar dat die sewe feeste eintlik ’n voorskou of ’n profesie van die heilsplan van God was nie. Verder is die vraag waarom sekere feeste dan nie hierdie betekenis sou hê nie, soos die nuwemaansfees, die Sabbatsjaar en die jubeljaar? Is daar nie heilsgebeure waarvan hulle voortekens sou wees nie? Indien ek sou aanvaar daar sal ’n duisendjarige vrederyk in die toekoms aanbreek, sou ek probeer het om die Sabbatsjaar in hierdie rigting te interpreteer. En sou die jubeljaar nie dalk ’n profesie van die nuwe aarde kon wees nie? Maar die Bybel ken nie sulke verbande nie. En verder is dit tog een van die vreemde dinge van die hele skema dat daar geen fees is wat dan na die nuwe aarde sou verwys nie. Dis tog die groot heilsdaad waarmee die Bybel eindig.
3.2.2 DIE EERSTE VIER FEESTE
Maar kom ons kyk een vir een na elke fees en die heilsdaad wat dan daarmee in verband sou staan.
Paasfees Dit is duidelik dat daar in die Nuwe Testament ’n bepaalde verband gelê word tussen die Paasfees en die kruisiging van Jesus. Jesus word die Paaslam genoem (1 Kor 5:7). Verder is dit interessant dat Hy volgens Johannes gekruisig is op die dag vóór die Paasfees, die dag toe die paaslammers geslag sou word vir die fees die aand. Hy word immers ook “die Lam van God” genoem (Joh 1:29). Maar dit is ’n verband wat vanuit die Nuwe Testament terug gelê word na die Paasfees, nie ’n verband wat in die Ou Testament bekend was nie. Die Paasfees kon dus nie in die tyd van die Ou Testament ’n “repetisie” of vooruitskouing op die kruisiging gewees het nie. Die Paasfees het in die Ou Testament sy eie waarde gehad, die viering van die bevryding van Israel uit die slawerny van Egipte. Niks in die Ou Testament skep die indruk dat dit na iets anders vooruitgewys het nie.
Die fees van die ongesuurde brode Hierdie fees het die dag ná die Paasfees begin en vir ’n week aangehou. Die Israeliete moes brood sonder suurdeeg eet. Dit moes hulle doen ter herinnering aan hulle swaarkry en verdrukking in Egipte, en ook aan hulle haastige vertrek. Dié brood word eintlik in Hebreeus “die brood van verdrukking” genoem. Ongesuurde brood word baie makliker en vinniger gebak as brood met suurdeeg, maar dis onaangenaam om te eet. In die lig van Deuteronomium 16:3 kan die vinnige gebak die simboliese betekenis hê van die vinnige vertrek die nag uit Egipte, en die onaangename brood die swaar werk en swaarkry terwyl hulle daar slawe was. Die Christene wat wil teruggaan na die Ou Testament, sien verskillende
betekenisse in hierdie fees. Sommige sien dit as ’n simbool van Jesus se begrafnis en sy sondelose lewe, ander sien dit as ’n simbool van ons heiligmaking. Die sewe dae wat die fees duur word ook gesien as ons volkome oorgawe en toewyding aan die Here. Hulle verwys dan na Paulus wat suurdeeg sien as ’n simbool van sonde (1 Kor 5:7). Maar die feit dat Paulus suurdeeg sien as ’n simbool van sonde, het niks te doen met die betekenis wat die fees in die Ou Testament gehad het nie. Dáár het suurdeeg niks met sonde te doen gehad nie, en die fees niks met sondeloosheid en heiligmaking nie. Die fees kon dus nie ’n soort profesie van Jesus se begrafnis, sy sondeloosheid, of ons heiligmaking gewees het nie. Dit was niks anders nie as ’n sinvolle terugkyk op die uittog uit Egipte, op hulle swaarkry (harde, onsmaaklike brood), en hulle vinnige vertrek. Die betekenis van suurdeeg as sonde kom dus uit die Nuwe Testament, wat nogeens beteken dat hierdie fees nie in die Ou Testament die betekenis van sondeloosheid gehad het en dus ’n soort vooruitskou op ons heiligmaking of Jesus se sondeloosheid was nie.
Die fees van die eerstelinge Hierdie fees is ná die Paasfees gevier. Die drie feeste, Paasfees, ongesuurde brode en eerstelinge was dus baie na aan mekaar en is eintlik as ’n eenheid gevier. Op hierdie dag moes elkeen ’n gerf van die eerste ryp graan aan die Here kom offer. Ons lees van ’n “beweegoffer” (Lev 23:12). Dit verwys na die feit dat die priester die gerf met ’n beweging aan die Here moes wy. Daarmee saam moes ook nog ander dinge geoffer word. Daar is min verdere besonderhede bekend oor hierdie fees. Dit is moontlik dat Jesus juis op hierdie dag opgestaan het. Verder word Jesus die eersteling genoem van dié wat gesterf het (1 Kor 15:20). Die derde dag en die eersteling herinner sterk aan die fees van die eerstelinge. En die feit dat Jesus die eersteling uit die dood was, het natuurlik wonderlike betekenis. Maar in die Ou Testament is geen aanduiding dat hierdie fees op enige manier vooruitgewys het na iets anders nie. Dit was ’n fees waarin die Israeliet die eerste gerf aan die Here gewy het, waarna hy dan die res van die oes kon gebruik (Lev 23:14). Meer as dit kry ons nie in die Ou Testament nie.
Die oesfees of die fees van die weke (die Pinksterfees) Die woord “pinkster” hou verband met “pente” wat vyftig beteken. Engels: Pentecost. Hierdie fees is vyftig dae na die eerstelingefees gevier. Dis eers in die Nuwe Testament waar dit die “Pinksterfees” genoem word (Hand 2:1; 20:16; 1 Kor 16:11). Dit is waar ons as Christene ons woord “Pinksterfees” vir die koms van die Gees kry, want die Gees is op hierdie Ou-Testamentiese fees uitgestort (Hand 2:1). Dit was die fees waarop ’n offer van die pas geoeste graan aan die Here gebring is, dus ’n fees aan die einde van die oes (Lev 23:16 ev). Die fees het skynbaar ook verband met die tyd toe Israel die wet by Sinai ontvang het. Dit is baie moeilik om ’n verband te lê tussen hierdie fees en die koms van die Gees. Maar hierdie Christene probeer dit tog. Hier is een so ’n poging. •Israel het vyftig dae ná die Paasfees die wet by Sinai ontvang wat hulle ’n volk gemaak het wat daaraan toegewy was om die Here te dien. Hierdie fees is nou vervul deur die koms van die Heilige Gees. Dit verteenwoordig die begin van die liggaam van Christus op aarde waarin alle gelowiges, versoen deur die bloed van die Messias, voor die Here verhef word en as heilig afgesonder word (Hand 2; Joh 14:15-18; Ef 2:11-22).
Wat het ons hier? •Hierdie fees is veronderstel om ’n verband te lê tussen die ontvangs van die wet in die Ou Testament en die koms van die Gees. Maar in die Nuwe Testament staan die wet juis téénoor die Gees (Gal 3:2-5). •Volgens hierdie beskouing is die werk van die Gees om die gelowiges vir die Here af te sonder. Maar is dít regtig die belangrikste? Kom die Gees nie eintlik om die wêreld vir Christus te wen nie? •En dan die verwysings uit Handelinge, Johannes en Efesiërs. Sê dit regtig iets oor die verband tussen die fees van die weke en die koms van die Gees?
Dit is nie die eerste keer dat ’n mens die gevoel kry dat daar ’n verband gesoek word wat nie regtig bestaan nie. Van die eintlike inhoud van die fees, die offer van die pas geoeste graan aan die Here, kom niks ter sprake in die “vervulling” in die koms van die Gees nie. En die ontvangs van die wet is op sy beste ’n afgeleide betekenis, maar presies wat het dit nou te doen met die koms van die Gees? Sou daar dalk wel ’n ander verband kon wees? Hierdie fees is gevier aan die einde van die oes. Maar die Gees kom aan die begin van die groot “sendingoes”. Beteken dit dat die Gees dit so seker maak dat die sendingoes wel ingesamel sal word, dat Hy al vóór die sendingoes kan kom terwyl die fees in die Ou Testament eers ná die oes gevier is? Maar ook hierdie keer kry die fees dan eers in die Nuwe Testament hierdie betekenis, wat dit nog nie in die Ou Testament gehad het nie. Is dit nie net te veel om te glo dat die vier groot feeste al vier presies vervul is in Christus en die Gees nie? •Paasfees in sy kruisiging; •Ongesuurde brode in sy begrafnis; •Eerstelingefees in sy opstanding; en •Pinksterfees in die koms van die Gees.
En veral dat die feeste eintlik profesieë is wat in Christus en die Gees vervul word. Het ons regtig so ’n gedagte in die Ou Testament gekry? Of in die Nuwe Testament? Indien ek daarvoor Skrifsteun gekry het, sou ek dit graag aanvaar het. Maar ek kry dit nie.
3.2.3 DIE LAASTE DRIE FEESTE
Intussen is daar nog drie feeste wat dan nog nie vervul sou wees nie: •die fees van die ramshorings; •die groot versoendag; en •die (loof-)huttefees.
Dit sou dan die feeste wees wat vervul gaan word by die wederkoms van Christus. Hierdie feeste word in die najaar gevier, al drie binne vyftien dae.
Die fees van die ramshorings of die trompetfees Daar is meer besonderhede oor hierdie fees in Numeri 29:1-6. Dit word soms die nuwejaarsfees genoem alhoewel dit nie so in die Bybel genoem word nie, en hier ook geen aanduidings is dat dit die betekenis van hierdie fees is nie. Dit was ’n vreugdefees wat aangekondig moes word met ramshorings of trompette (1953-vertaling). Daar moes offers aan die Here gebring word. Hierdie fees sou dan die voorteken wees van die wegraping omdat ons in die Nuwe Testament lees van die trompet van God wat sal weerklink wanneer Christus kom (1 Kor 15:52; 1 Tess 4:16). Verder sou die tien dae tussen hierdie fees en die groot versoendag sinspeel op die tien dae verdrukking van Openbaring 2:10 wat ’n simbool vir die groot verdrukking ná die wegraping sou wees. Maar dié soort verwysings kan darem nie werk nie. Hierdie fees het eenvoudig nie hierdie betekenis in die Ou Testament nie. Nóg in die Ou Testament, nóg in die Nuwe Testament is daar enige verwysings of sinspelings daarop dat hierdie
gegewens oor die fees (die trompet en die tien dae) na iets in die toekoms verwys. En nêrens in die Nuwe Testament is daar enige aanduiding dat hierdie gegewens (die trompet en die tien dae) na die koms van Christus of die verdrukking verwys nie. Dit beteken dat daar iets willekeurig in hierdie aansprake is.
Die groot versoendag Dit is die dag waarop daar versoening gedoen moes word vir die hele volk se sonde. ’n Bul, twee bokramme en een skaapram moes geoffer word (Lev 16). Die bul word eerste geoffer vir die sonde van die priesters, en dan die bokke vir die sonde van die volk. Daar is nog heelwat besonderhede oor presies hoe daar versoening vir sonde gedoen moes word. Immers versoening van sonde is waaroor hierdie dag gaan. Volgens die mense wat wil terug na die Ou Testament is hierdie fees ’n vooruitwysing na die wederkoms van Christus. Maar ’n mens sal natuurlik dadelik vra of dit nie eerder verband kan hou met die kruisoffer vir ons sonde nie. Het die wederkoms te doen met ’n offer vir ons sonde? Ja, is die antwoord. Op die dag van sy wederkoms sal die Here Jesus die sonde van Israel beëindig. Hiervolgens verteenwoordig hierdie versoendag eintlik die behoefte aan versoening vir die volk Israel, en dit word dan deur Jesus vervul. Vooraf, tydens die bruilof van die Lam, wat direk ná die wegraping gevier sal word, sal Jesus ook as sodanig erken en geëer word. Maar is dit nie erg gedronge nie? Dit het by die groot versoendag nie gegaan oor die behoefte aan versoening nie, maar oor versoening. Daar is die volk se sonde versoen. Daar staan niks daarvan dat hulle sonde eers beëindig sal word by die wederkoms van Jesus nie. Ook nie in die Nuwe Testament nie. Verder word interessante ooreenkomste getref tussen: •die nederige klere van die priester op daardie dag, en Jesus wat in nederigheid gekom het; •die wit klere van die priester en die reinheid van Jesus; en •die offer wat vir die sonde van die volk gebring moes word en die sondeloosheid van Jesus.
Maar daar word nêrens in die Bybel enige verbande gelê tussen hierdie dinge nie. Ek sou wel kon dink ’n mens kan probeer om ’n verband te lê tussen die groot versoendag en die kruisiging van Jesus. Maar ek het ook dit nog nie in die Bybel raakgesien nie.
Die huttefees Dit is die sewende en laaste van die feeste in Levitikus 23. Die volk moet vir sewe dae in hutte woon wat van blare en takke gemaak is. Die doel van die fees word uitdruklik uitgespel: “… dat julle nageslag moet onthou dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipte laat trek het” (Lev 23:43). Onder die mense wat weer die feeste wil vier, word dit taamlik algemeen aanvaar dat hierdie fees ’n voorskou is van die duisend jaar van vrede wat begin by Jesus se wederkoms. Die woon in hutte sou dan heenwys na Jesus wat op die aarde kom woon. Dit sou dan natuurlik nog nie die nuwe aarde wees nie. Volgens hierdie siening sal die nuwe aarde eers kom ná die duisend jaar en na die duiwel in die vuuroond gegooi is. Net twee opmerkings. Daar is nie veel ooreenkoms tussen die hutte waarin Israel tydens hierdie fees gewoon het, en die paleis van Dawid waar Jesus in Jerusalem sou gaan woon tydens die vrederyk nie. En verder is dit opvallend dat hierdie mense glo die feeste is ’n voorskou van die hele verlossingsplan van God, maar die laaste fees wys net na die duisend jaar. Eindig God se verlossingsplan met die vrederyk op die ou aarde, of met die ewige fees op die nuwe aarde? As ’n mens terugkyk op die pad wat ons die afgelope aantal bladsye geloop het, is dit nie oortuigend nie. Dit is gedronge. Daar word ten alle koste gegryp na vreemde soorte ooreenkomste. Daar is die absolute minimum Bybelse verwysings waarvan die meeste eenvoudig nie sê wat hulle veronderstel is om te sê nie. •Daar is geen aanduidings in die Ou Testament dat hierdie feeste hierdie betekenis het nie.
•En die Nuwe Testament verwys ook nie terug na hierdie feeste as ’n soort belofte van dit wat in Jesus se lewe gebeur nie.
3.3 MOET CHRISTENE NOG DIÉ FEESTE VIER?
Dit is ’n tweede vraag oor die feeste. Sommige eis dat alle Christene en Messiaanse Jode nog die feeste moet vier. Maar het die feeste nie maar net dieselfde pad geloop as die Sabbat nie? Het hulle nie eenvoudig ná Jesus se opstanding geleidelik verdwyn uit die lewe van die Christene nie, net soos die Sabbat? Ná Jesus se opstanding word daar nie weer na enige van die feeste verwys nie, behalwe drie keer na die Pinksterfees en een keer na die fees van die ongesuurde brode (Hand 20:6). •Die Heilige Gees is op die Ou Testament se Pinksterfees uitgestort (Hand 2). •Die Pinksterfees word as ’n blote tydsaanduiding gebruik (1 Kor 16:8). •Paulus begeer om vir die Pinksterfees in Jerusalem te wees (Hand 20:16). •Die fees van die ongesuurde brode is ook ’n blote tydsaanduiding (Hand 20:6).
Dis nie vreemd dat Paulus wel nog ’n keer by die Pinksterfees wil wees nie. Ons vergeet maklik dat die vroeë Christene Jode was wat eintlik net van die ander Jode verskil het in hulle oortuiging dat die Messias al gekom het. Hulle het aanvanklik nog tempel toe gegaan (Hand 3), sommige het selfs nog taamlik lank hulle seuntjies besny en die gewone “Joodse gebruike” onderhou ( Hand 21:21). Maar twee belangrike dinge het geleidelik gebeur: •Hulle het verwyder geraak van die Joodse leiers en van die Joodse godsdiensgemeenskap omdat die Jode hulle al meer vervolg het (Hand 20 – 26). •Hulle het los geraak van die tempel, die wet en al die “Joodse gebruike”. Dit het baie ingesluit: die besnydenis, die Sabbat, die feeste en die tempelkultus
(priesters, offers).
En is Paulus nie baie duidelik daaroor nie? Ons het reeds gekyk na sy houding oor die Sabbat (hoofstuk 2). En nou die feeste. Hy bespreek nooit die feeste breedvoerig nie. Daar is eintlik net twee spesifieke opmerkings (Gal 4:9-11; Kol 2:16-17). Ons het alreeds in verband met die Sabbat breedvoerig na hierdie twee verwysings gekyk (2.4). Kolossense is ’n sagter uitspraak as Galasiërs. In Kolossense vermaan hy die gemeente om hulle nie te laat voorskryf om sekere gebruike na te kom nie, terwyl hy in Galasiërs die vrees uitspreek dat hy dalk tevergeefs die evangelie aan die gemeente verkondig het as hulle met die feeste voortgaan. Waarom is hy sagter in Kolossense? Is dit omdat die situasies in die twee briewe verskil? In Galasiërs was dit ’n radikale keuse: Jesus sonder die wet of saam met die wet. En sy antwoord was radikaal: Christus óf die wet. Waarom so radikaal? Omdat dit gegaan het oor die vraag hoe mense gered word. Indien die wet by Christus moet bykom om ons redding te verseker, beteken dit dat Hy nie volle voorsiening gemaak het vir ons redding nie. Dit onteer Hom. Daarom is dit uit. Dit beteken om nog te besny of die feeste te vier is uit. Maar in Kolossense is die posisie nie so radikaal nie. Die groot saak in hierdie brief is nie die wet nie. Daarom kom die Sabbat en die feeste meer terloops ter sprake. Dit kom nie voor in die verband van hoe ’n mens gered word nie, maar hoe ’n gelowige leef. En dan is Paulus se posisie eerder iets soos: Dis nie meer nodig nie. Sou dit beteken dat indien gelowiges tog gekies het om daarmee voort te gaan, hy inskiklik sou wees? Miskien. Maar dit sou tog vreemd wees. Hy noem daar die voedselvoorskrifte, die Sabbat en die feeste ’n skaduwee, terwyl die werklikheid Christus is. Dit sou tog vreemd wees om aan ’n skaduwee vas te hou as die Een wie se skaduwee dit is, gekom het! Hebreërs stel dieselfde saak nog sterker. Hy is ook met die wet besig, hierdie
keer in die vorm van die tempelkultus. Volgens hom is die wet van Moses nie eens ’n werklike beeld van die heil wat deur Christus gekom het nie, maar “net ’n skadubeeld” (10:1). Negatiewer kan dit amper nie. Dan het dit geen sin om daarmee voort te gaan nie.
Skaduwee Maar nou word die gedagte dat die wet ’n skaduwee was wat vooruitgewys het na Christus, soms juis positief deur hierdie Christene gebruik. Dit word veral in verband met die feeste gebruik. Dit sou beteken dat die feeste vooraf die hele heilsplan van God voorafgeskadu of afgebeeld het. Een vir een sou ’n mens in die afsonderlike feeste na die groot heilsdade kon kyk. Na die vraag of die feeste wel die groot heilsdade voorafskadu, het ons reeds gekyk (3.2). Maar nou kyk ons na Paulus en Hebreërs se gebruik van die begrip “skaduwee”. In Kolossense en Hebreërs word dit in ’n negatiewe sin gebruik om te sê hierdie gebruike het hulle waarde verloor, hulle word vervang met Jesus self. En nêrens word gesê dat hulle inderdaad dié besondere betekenis gehad het om een-een na die groot heilsdade te verwys nie. Daar is dus waarskynlik nie regtig ’n verantwoordelike manier om die sterk uitsprake van Paulus téén die feeste soveel te versag dat Christene maar kan aanhou daarmee nie.
3.3.1 SABBAT EN FEESTE OP DIE NUWE AARDE?
Op twee plekke in die Ou Testament lees ons iets hiervan:
Jesaja 66:22-23: “Elke nuwemaansfees en elke sabbat sal al wat leef voor My in aanbidding kom buig.” Dit staan in die oudste gedeelte wat handel oor die nuwe hemel en die nuwe aarde.
Sagaria 14:16-19. Hier word geskryf dat iewers in die toekoms die huttefees gevier sal word. Dit is nie duidelik na watter geleentheid verwys word nie, maar dis in die toekoms.
Die vraag is wat staan hier oor hierdie feeste in die toekoms, die nuwemaansfeeste, die Sabbat en die huttefees. Ons kan van twee kante af daarna kyk. Sommige is oortuig dit gaan hier oor die duisendjarige vrederyk. Hulle meen dat daar ná die wederkoms van Jesus ’n duisend jaar van vrede sal aanbreek vóór die Here die aarde sal nuut maak. En dit is dan in hierdie tyd dat hierdie feeste weer gevier sal word. Soos ek die Bybel verstaan, sal daar nie so ’n tyd van vrede op die ou aarde aanbreek nie. Ek het eintlik gewonder of ek nie ook hieroor behoort te skryf nie. Maar ek het alreeds die duisendjarige vrederyk in besonderhede behandel in my kommentaar op Openbaring (’n Perspektief op Openbaring, CUM 2009, bl 92 ev). Maar kom ons aanvaar daar sal wel so ’n tyd wees en dat die feeste dan wel gevier sal word.
Maar dit sê tog nie dat dit vandag nog gevier moet word nie. Die mense wat aanvaar dat daar so ’n vrederyk sal wees, aanvaar dat Jesus dan op die troon van Dawid sal sit en die hele wêreld vandaar af regeer. En ook dat die tempel herbou sal word. Ook dit sou kon waar wees. Maar daar is nie vandag ’n troon van Dawid in Jerusalem nie, en ook nie ’n tempel nie. Die troon sal weer opgerig moet word en die tempel herbou word. Maar dan hoef ook die feeste mos nie vandag gevier te word nie. Dan kan die feeste mos hervat word wanneer die tempel herbou word. Maar ons kan ook anders hierna kyk. Die vraag is of ons nie hier die tipiese verskynsel het dat iemand in die taal van sy of haar tyd iets oor die toekoms sê, terwyl dit nie noodwendig presies só sal wees wanneer dit gebeur nie. Kom ons kyk na ’n uitspraak van Jesus in die Evangelies. Hy stuur die dissipels uit op ’n sending onder Israel (Matt 10:16-23). Dit is ’n sending wat nie voltooi sal word voor sy wederkoms nie (10:23). En dan verklaar Hy dat hulle vervolg sal word en in die sinagoges gegesel sal word. Die uitspraak moet ook vir ons tyd geld, die tyd voor sy wederkoms. Maar daar word nie meer mense in sinagoges in Israel gegesel nie. Maar Jesus het die toekomstige vervolging uitgedruk in terme van sy tyd. Jesus vertel die gelykenis van die tien meisies wat vir die bruidegom wag (Matt 25:1-13). Dit gaan ook oor sy wederkoms. Hulle wag met olielampe. Maar dit beteken tog nie mense sal nog olielampe gebruik by die wederkoms nie. Jesus praat oor die toekoms in terme van sy tyd. Wil God in Jesaja en Sagaria nie maar net in terme van daardie tyd sê dat Hy in die toekoms gedien sal word nie?
4
VORMS VAN TERUGKEER NA DIE OU TESTAMENT IN GALASIËRS EN HEBREËRS
Daar is twee boeke in die Nuwe Testament wat gaan oor groepe wat met sekere Ou-Testamentiese gebruike wou voortgaan of daarheen wou terugkeer. En die Hebreërbrief word geskryf aan Joodse Christene wat wou terugkeer na die OuTestamentiese kultus en gebruike.
4.1 GALASIËRS
In Galasië was daar Joodse Christene wat wou hê die heidene wat tot bekering kom, ook nog die wet moes hou en veral dat hulle besny moes word en die feeste vier. In hoofstukke 2 en 3 van hierdie boek het ons alreeds kortliks hierna gekyk. Vir ons klink dit gewoonlik vreemd. Maar was dit regtig?
4.1.1 DIE JUDAÏSTE SE ARGUMENT
Die Judaïste het natuurlik nie alles verwerp wat Paulus gepreek het nie. Hulle het veral glad nie vir Jesus en sy verlossing verwerp nie. Maar hulle het beweer dat Paulus die heidene net halfpad geneem en toe gelos het. Daar moes nog iets by Paulus se boodskap bykom. Geloof in Jesus was natuurlik onontbeerlik, maar dit was nie genoeg nie. Die wet, en veral die besnydenis moes bykom. Volgens hulle moes die heidene eintlik, nadat hulle Jesus aangeneem het, net die volgende “logiese” stap ook geneem het: Om hulle te laat besny en die feeste te begin vier, en só die wet te hou. Hulle kon verskeie argumente aanbied om die gemeentes hiervan te oortuig. Hulle kon die heidene in die sinagoge as voorbeeld gebruik. Heidene wat die sinagoge-byeenkomste begin bywoon het, moes in die God van Israel glo – net soos die heidene nou in Jesus moes glo – en dan moes hulle besny word as die eerste stap om die wet te hou. Dit was ook volkome logies in terme van die godsdiens in die Ou Testament. Abraham was self ’n heiden wat deur God geroep is. Hy het in God geglo en toe is hy besny. Alle heidene wat in die tyd van die Ou Testament in Israel se God begin glo het, moes dus ook besny word en die wet begin hou. Omdat Jesus God se openbaring is, moes heidene wat in Jesus begin glo, dieselfde pad loop. Jesus was immers Israel se Messias. Israel was die uitverkore volk. En Israel was die nageslag van Abraham. Die heidene moes dus deel van Israel word, van Abraham se nageslag, om gered te word. Dit het beteken dat hulle, net soos Israel, in Israel se God moes glo en die wet moes hou. Daarom moes die heidene wat nou in Jesus glo, ook Israel se pad loop: besnydenis en die res van die wet soos die feeste (4:10). Só sou hulle deel van die uitverkore volk word en deel kry aan die beloftes wat God aan Abraham gegee het. Dit was min of meer wat die Judaïste gepreek het. Hulle was oortuig Paulus het reg begin om heidene op te roep om in Jesus te glo, maar hy het net nie die volle pad geloop nie.
4.1.2 PAULUS SE REAKSIE
Wat is Paulus se reaksie hierop? Hy kon dit nie aanvaar nie. Hy het dit gesien as ’n terugkeer na die Ou Testament. Al wat bygekom het, was Jesus. Die Ou Testament plus Jesus. Die wet plus Jesus. Dit is opvallend dat hy, net soos die Judaïste, in sy verdediging ook by Abraham begin, en trouens Abraham die hoofpersoon in sy argument maak. Eintlik pas Abraham sy argument soos ’n handskoen. Immers, Abraham het in God begin glo nog voor daar ’n wet was. Die wet het nog nie eens bestaan in Abraham se tyd nie, dit het eers 430 jaar later gekom (Gal 3:17). Dan kan daar mos nie sprake daarvan wees dat ’n mens by die geloof ook nog die wet moet byvoeg om gered te word nie. Ons sien mos by Abraham hoe ’n mens gered word. Hy is gered sonder die wet, net omdat hy geglo het. In Galasiërs 3:6 gebruik Paulus Genesis 15:6: “Abram het die Here geglo en die Here het hom as regverdig gereken.” (NLV; Die 1983-vertaling is ongelukkig baie lomp.) Abraham glo dus in God en word gered sonder die wet. Dis presies wat Paulus preek: Glo in Jesus, en jy word gered sonder die wet. Verder het die Here met Abraham die verbond gesluit sonder dat die wet bestaan het (Gen 17). Toe Hy die verbond met Abraham gesluit het, was daar nog geen sprake van die wet nie. Maar Paulus hou nie hier op nie. Hy moet nog verduidelik hoe dit moontlik is dat die heidene aan die verbond en die heil deel kry. Hulle is mos nie die nageslag van Abraham nie. Israel is mos. Of is dit regtig só? Wie is “kinders van Abraham”? Die Jode? Dié wat die wet hou? Nee. “Julle sien dus dat die wat glo, kinders van Abraham is” – of hulle nou Jode of heidene is (3:7). Hoe kan hy dit skryf? “Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo” (3:9). Waar kry hy dit? Presies in die oorspronklike beloftes aan Abraham wat eindig met: “In jou sal al die volke van
die aarde geseën word” (Gen 12:3; Gal 3:9). Dit was dus van die begin af die verwagting dat die heidene deel sal kry aan die seën wat God in die verbond aan Abraham toegesê het. En dit alles sonder enige verwysing na die wet. Dit het net oor Abraham se geloof gegaan. En boonop kom die kruis nou daarby. Deur die kruis “kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het” (3:14). Deur sy kruisdood bewerk Jesus dit wat al aan die begin in die vooruitsig gestel is: Die heidene wat tot geloof kom, word deel van die Abrahamverbond. Is die saak van die Galasiërs hiermee afgehandel: Dis nie nodig om die wet te hou en besny te word om gered te word nie? Nee. Nog lank nie. Die eintlike, ernstige kant kom nou eers. Die Judaïste is oortuig dat hulle die betekenis van Christus ten volle erken. Hulle wil net die pad enduit loop. Die besnydenis en die wet moet net bykom. Hoe reageer Paulus? Sy reaksie is nie maar net dat hierdie byvoeging onnodig is en dat Christus genoeg is nie. Sy reaksie is veel skerper. Indien hulle die wet wil byvoeg, verloor hulle vir Christus! “As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie ... Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het die band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur” (5:2,4). Jy kan nie by Hom iets byvoeg en dink jy behou Hom nie. •Dis net Christus. •Of nie Christus nie.
Waarom? Omdat jy Hom nie net misverstaan as jy dink Hy is nie genoeg nie, maar omdat jy Hom onteer. “As ’n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het” (2:21). Volgens Paulus ontken jy die betekenis van Christus as jy
die wet wil bybring. Dis óf Christus, óf die wet. Hoe het dit betrekking op die rigting wat ons in hierdie boek behandel, op Christene wat wil terug na die Ou Testament? Eenvoudig net dit: Oppas om allerlei dinge uit die Ou Testament te wil bybring asof dit net ’n verryking van jou geloof sal wees. Dit kan wees dat ’n mens dit ten koste van Christus self doen.
4.2 HEBREËRS
4.2.1 JOODSE CHRISTENE WIL TERUG NA DIE OU TESTAMENT
Maar intussen het ons in die Brief aan die Hebreërs ’n merkwaardige voorbeeld van ’n groep wat nog radikaler wou terugkeer na die Ou Testament. Die skrywer doen eintlik niks anders nie as om die lesers te waarsku hoe gevaarlik dié soort terugkeer is wat hulle oorweeg, ’n terugkeer wat baie radikaler is as dié in Galasië. Dit kan dus verhelderend wees om hierna te kyk. In Galasiërs het die Judaïste nog gemeen hulle erken Christus se betekenis ten volle, hulle wil net iets byvoeg. Maar in Hebreërs oorweeg die gelowiges skynbaar regtig om Christus self prys te gee en volledig terug te gaan na die OuTestamentiese vorm van die godsdiens. Daar is heelwat waarskuwings wat in dié rigting wys: •“Hoe sal ons kan ontkom as ons so ’n groot saligheid verontagsaam het?” (2:3). •“Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het” (3:14). •Hulle moet oppas “dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agter gebly het nie” (4:1). •“Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, ...” (10:29). •“Volharding is wat julle nodig het om ... te ontvang wat Hy beloof het” (10:36).
Wat is die omstandighede? Die brief is duidelik gerig aan Joodse gelowiges. En dit is mense wat alreeds erg vervolg is oor hulle geloof (11:32-34). Maar waarom dan terug na die Ou Testament? Daar was ’n taamlik algemene vervolging van Christene in daardie tyd. Maar nie van Jode nie. Die Romeinse owerheid het die Joodse godsdiens erken, maar nie
die Christelike godsdiens nie. Jode is nie oor hulle geloof vervolg nie. Ons weet dit goed uit Paulus se sendingreise. In elke stad gaan hy sinagoge toe, en die Jode vergader daar openlik, sonder enige probleme. Trouens die Jode het selfs taamlik vry toegang tot die owerheid gehad, want hulle kon Paulus telkens aankla (Hand 16:19-34; 18:12). Maar as die Jode dan jaloers word omdat Paulus die heidene oorhaal na Jesus toe, het hulle in opstand gekom en, soms met die hulp van die owerheid, Paulus en sy helpers vervolg (Hand 17:5-7) Dit was dus skynbaar vir hierdie Joodse Christene net te veel om so vervolg te word. Hulle onthou goed dat hulle nie vervolg was voor hulle bekering nie, en hulle weet as hulle hierdie geloof los, en weer teruggaan na die Ou-Testamentiese godsdiens, sal die vervolging ophou. Dit is dus nie vreemd dat die skrywer nie so duidelik besonderhede gee oor waarheen hulle wou terugkeer soos in Galasiërs nie. Hulle wil eenvoudig terugkeer na waar hulle vandaan kom: die manier waarop die godsdiens in die Ou Testament voorgeskryf is. Daarom sluit die skrywer omtrent elke belangrike saak in die Ou Testament in sy bespreking in. En miskien is dit juis die punt wat hier vir ons belangrik is. Hy put eintlik die Ou Testament uit en kry niks wat die moeite werd is as jy dit met Christus vergelyk nie.
4.2.2 CHRISTUS IS GROTER AS …
’n Mens sien dit sommer dadelik as jy net deur die brief blaai, hoofstuk vir hoofstuk. •Hoofstuk 1: Christus is groter as die engele (oa 1:4). •Hoofstuk 3: Christus is groter as Moses (oa 3:3-6). •Hoofstuk 4: Christus is groter as Josua en die rus wat hy gebring het (oa 4:811). •Hoofstuk 7: Christus is groter as die priesters (oa 7:23-25). •Hoofstuk 8: Christus bring ’n groter en beter verbond (oa 8:6,7,13). •Hoofstuk 8,9: Christus bring ’n groter offer (oa 9:11-14; 10:9-12). •Hoofstuk 9: Christus bring sy offer in ’n groter tempel (oa 8:2; 9:11,24).
Sy punt is eintlik: As jy as Christen na die Ou Testament kyk, moet jy ver na ondertoe kyk, en as jy regtig mooi kyk, sal jy daar ver onder ’n paar klein engeltjies sien, en dan ’n klein mannetjie wat hulle Moses genoem het, en een wat nog kleiner was, Josua ... Natuurlik leer ons baie uit die Ou Testament. Natuurlik het die Ou Testament geweldig baie waarde. Natuurlik kan ons glad nie die Nuwe Testament ten volle verstaan sonder die Ou Testament nie. Natuurlik is die Ou Testament onontbeerlik om die werk van Christus ten volle te verstaan. Maar wanneer dit op ’n keuse aankom, word dit eintlik ’n onsinnige keuse. Kom ons kyk net vir ’n oomblik na Moses. Daar was geen figuur in die hele Ou Testament wat selfs net met Moses vergelyk kon word nie. Hy het die wet van
God ontvang, en die wet was die wil van God vir die hele godsdiens van die Ou Testament. Wanneer die Jode die Christene in Handelinge beskuldig, is dit juis oor hulle houding teenoor Moses en die wet (Hand 6:11,14; 15:1,5; 18:13; 21:28). Dis opvallend dat hulle Moses selfs vóór God noem as hulle Stefanus beskuldig: “Ons het hom teen Moses en God hoor laster” (6:11). Moses was sondermeer dié simbool van hulle hele godsdiens. Sy naam verskyn meer as 700 keer in die Ou Testament teenoor Abraham se net meer as 200 keer. Maar in vergelyking met Jesus verdwerg hy. Volgens Hebreërs was hy maar net ’n dienaar in die huis van God terwyl Christus die Seun oor die huis is (Heb 3:56). Dis maar net nóg ’n voorbeeld van hoe die gety in die Nuwe Testament geleidelik téén Moses en “die wet van Moses” gedraai het. ’n Mens moet onthou dat die wet van Moses duidelike voorskrifte gehad het hoe die volk Hom moes dien: Die besnydenis, die Sabbat, die tempel, priesters, offers en feeste. Dit is hierteen wat Hebreërs se negatiewe uitsprake gerig is. En die res van die Nuwe Testament bevestig sy houding. Daar loop eintlik ’n lyn deur die Nuwe Testament wat Moses se wet téénoor die evangelie stel (Joh 1:17; 2 Kor 3:7-17; Gal 3:2; 4:9-11; Kol 2:16-20). Dink maar net aan Paulus se woorde: “Hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? ... Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk onder julle was dalk tevergeefs” (Gal 4:9-11). Negatiewer kan dit beswaarlik! Die wet van Moses word nou “daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls”! En onthou hy som die hele feeskalender van die Ou Testament op, wat al die feeste insluit. Die “dae” sluit die Sabbat in, die “maande” die nuwemaansfees, die “feesgeleenthede” die sewe groot jaarlikse feeste, en die “jare” die Sabbatsjaar en die jubeljaar. Hy gebruik dus die bekende samevatting van Israel se feesprogram (“dae en maande, feesgeleenthede en jare”) wat in verskillende vorms in die Ou Testament voorkom (1 Kron 23:31; 2 Kron 2:4; 31:3; Neh 10:33; Eseg 45:17; Hos 2:10). Maar kom ons kyk net ’n bietjie nader na Hebreërs. Kom ons maak net ’n lys.
4.2.3 ALLES WAT VERBY IS
Die tempel Dis bloot ’n namaaksel van die ware tempel in die hemel (9:11,23-24).
Die offers Die offers kon onmoontlik die sondes wegneem (10:3,11), dit het die gelowiges maar net uiterlik rein gemaak terwyl die bloed van Christus ons gewete van sonde bevry (9:13-14).
Die priesters •Die priesters is glad nie met ’n eed aangestel nie, maar Christus is met ’n eed deur God self aangestel as Hoëpriester (7:20-21). •Priesters was sterflike mense wat mekaar moes opvolg, maar Christus is vir ewig priester (7:23-25). •Die priesters moes elke keer weer offers bring, terwyl Christus net een maal sy offer gebring het (10:11-13). •Die priesters moes diere se bloed bring, maar Christus het sy eie bloed gebring, Hy het Homself geoffer (7:27; 9:12). •Die priesters moes eers vir hulleself offer en dan vir die volk, maar Christus het nie vir Homself geoffer nie omdat Hy sonder sonde was (9:27).
Die wet van Moses: Dit was slegs ’n skadubeeld, nie eens ’n werklike beeld nie, van dit wat Christus kom doen het (10:1).
Josua Hy het Israel nie in die ware rus ingelei nie. Ons moet nou in die ware rus, God se sabbatsrus, ingaan (4:8-11).
Die ou verbond Dit was uitgedien en moes deur ’n nuwe vervang word (8:7,11). Die ou verbond is die verbond by Sinai wat God deur Moses met Israel gesluit het (Jer 31:31 ev). Dit is amper oorweldigend. Daar is geen moontlikheid dat die ou sisteem ná Christus nog kan voortgaan nie. En nie net die tempel-priester-offerdiens nie, maar die ou verbond (8:7,11) en die wet van Moses! (10:1). “Die vroeëre bepalings is afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan. Die wet het nie volmaaktheid bewerk nie. Aan die ander kant het ’n beter hoop ingetree, waardeur ons tot God kan nader (7:18-19). Dit is radikale uitsprake. En dit is omvattend. Dit gaan oor die totale diens om die tempel. En daar is geen manier om die feeste of die Sabbat hiervan uit te sluit nie. Dit was deel van die wet, en Paulus se uitsprake daarteen is net so sterk. Hy is selfs bang dat die Galasiërs wat hiermee wil aanhou, nooit regtig tot geloof gekom het nie (Gal 4:11). Dit lyk my ons leer hier ten minste twee dinge: •Die Hebreërbrief sluit die totale godsdiensprogram van die Ou Testament in wanneer hy die Joodse Christene waarsku om nie na die Ou Testament terug te gaan nie. •En die rede is dat Christus só groot is dat Hy alles wat in die Ou Testament gegeld het, totaal oorskadu.
Dit lyk my dus verkeerd om nou enkele dinge uit te sonder en daarmee voort te gaan: •In Galasiërs leer ons as jy een of twee uitsonder en dink dit sal jou geloof verryk, moet jy besef dit kan nie, jy verloor vir Christus self. •En in Hebreërs leer ons waarom. Christus is eenvoudig oneindig groter as
enigiets in die Ou Testament, en selfs as alles saam.
Wat ook al in die Ou Testament na Hom vooruitgewys het, was net skaduwees. En niemand klou vas aan ’n skaduwee as die Een wie se skadu dit is, verskyn het nie (Kol 2:16-17)! Dit was net net skadubeelde (Heb 10:1). Christus oorskadu die Ou Testament totaal, en daarom is enige terugkeer so gevaarlik. Maar beteken dit alles dat hierdie skrywer volkome negatief is teenoor die Ou Testament? Is daar dan geen waarde meer in die Ou Testament vir ons nie? Vee hy die hele Ou Testament eenvoudig van die tafel af? Wie dit dink, moet tog weer netjies na hierdie brief kyk. Word die Ou Testament regtig in sy totaliteit hier afgeskryf? Of gaan dit net om ’n netjies omskrewe faset van die godsdiens van die Ou Testament? Watter deel? Die tempelkultus, die gestruktureerde manier waarop God gedien moes word. Want onthou ook die ander fasette soos die Sabbat en die feeste is hierby ingesluit, want dit was ook deel van die wet en die ou verbond wat volgens Hebreërs afgeskaf is. Om sekerheid te kry oor die feit dat hy glad nie die Ou Testament in sy geheel afskryf nie, is dit goed om net ’n oomblik te kyk na die positiewe manier waarop hierdie skrywer juis ander dele van die Ou Testament gebruik. Ons kyk eers net na ’n paar kleiner sake: •Die heel eerste paar verse in die brief is ’n vergelyking tussen die Ou Testament en Christus. Sy tema is dadelik duidelik: Christus is groter as die Ou Testament. Maar intussen beklemtoon hy dat dit inderdaad God is wat óók in die Ou Testament gepraat het. •Sy verwysings na die engele is almal positief, al is sy punt dat Christus veel groter as hulle (hoofstuk 1) is. •Sy gebruik van Melgisedek (ook uit die Ou Testament) is volkome positief. Christus is juis hoëpriester op Melgisedek se manier, en nie in die lyn van die Levitiese priesters in Jerusalem nie (hoofstuk 7).
Net hierdie paar opmerkings sê al klaar hierdie skrywer is nie uit beginsel negatief oor die Ou Testament nie. Maar daar is meer.
4.2.4 HEBREËRS 11
Kom ons kyk nou na hierdie merkwaardige hoofstuk. Ons vraag is of die Hebreërbrief eenvoudig die hele Ou Testament afgeskryf het. Hebreërs 11 is seker een van die bekendste hoofstukke in die Bybel: die geloofshelde. Die tema van die hoofstuk is die geloof van die belangrike figure in die Ou Testament. En die een word positiewer geteken as die ander. En almal is uit die Ou Testament! Maar kom ons kyk na drie dinge: •Die plek waar hierdie hoofstuk staan. •Die begin van die hoofstuk. •Die woorde direk ná die hoofstuk (hoofstuk 12 se eerste woorde).
Plek Hierdie hoofstuk staan direk aan die einde van die middeldeel van Hebreërs (hoofstukke 7-10) wat eintlik die hoofdeel in hierdie brief is en waarin die negatiwiteit oor die Ou Testament sy hoogtepunt bereik. Maar hierdie hoofstuk is nou skielik merkwaardig positief oor die Ou Testament. Dit vorm dus ’n skerp kontras met die hoofdeel van die brief. Het die skrywer dit so beplan? Wou hy die lesers oortuig sy negatiwiteit oor die Ou Testament is nie ’n beginsel nie en dit raak glad nie die hele Ou Testament nie, maar net bepaalde sake in die Ou Testament? Wou hy die moontlikheid van misverstand uit die weg ruim deur, ná die negatiwiteit, te beklemtoon watter wonderlike positiewe betekenis die Ou Testament wel het?
Begin Dan die begin van die hoofstuk (11:1). Dit begin met ’n “definisie” van geloof: “Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om
oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Die punt wat die skrywer hier maak, is dat ons nog nie die dinge sien en beleef waarop ons hoop nie. Paulus skryf iewers: “Want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie” (2 Kor 5:7). Waarom skryf Hebreërs juis hier dieselfde gedagte neer, dat ons nog nie alles sien wat ons glo nie? Is dit nie dalk omdat die lesers diep ontsteld is omdat hulle nou ly juis vandat hulle Jesus as Messias aanvaar het nie? Wil hy nie vir hulle sê dat ons nog net uitsien na (hoop op) die heerlikheid wat kom, dat ons dit nog nie kan sien en beleef nie, en dat, as hulle swaarkry, hulle hul dus nie moet ontstel nie? Wil hy sê dat vervolging vir Christene volkome “natuurlik” is, dat alle volgelinge van Jesus vir hulle geloof ly, en dat die heerlikheid eers in die toekoms lê? “Geloof is om oortuig te wees van die dinge wat ons nog nie sien nie.” Nou sien hulle nog net lyding. Maar dit sal verander. Trouens, hy beklemtoon dit sommer gou weer in hierdie hoofstuk. Wanneer hy oor Henog se geloof praat, beklemtoon hy dat ons nie God se wil kan doen as ons nie glo nie (11:6). Dit gaan dus glad nie oor wat ons beleef nie, maar oor wat ons glo. Daarom moet hulle nie ontsteld wees oor wat hulle nou beleef nie, oor hulle huidige swaarkry nie. Dis eintlik normaal. Die res van die Nuwe Testament is dan ook duidelik hieroor (Hand 14:22; 2 Tim 3:12). Miskien wou hy ’n soort “prosperity gospel” by hulle beveg. Maar dit alles beteken dat die onderwerp én die plek van hoofstuk 11 baie netjies beplan is.
Einde Derdens is die eerste verse ná hoofstuk 11 ook belangrik (12:1-3). Miskien het ons hier die hoogtepunt van die hele brief. Kyk na die einde van hoofstuk 11: Die gelowiges van die Ou Testament word geprys oor hulle geloof, al het hulle nie verkry waarop hulle gehoop het nie, en al het hulle vreeslik gely (11:39;11:32 ev). Dis mos nou presies die posisie van die lesers. Maar waarom het hulle nie verkry waarop hulle gehoop het nie? “Omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie” (Heb 11:40). Maar hier sluit hy dus, nes Paulus en Petrus, volkome positief aan by die Ou Testament. Die Ou Testament is “open ended”, want hulle het vir ons gewag. Wat moes dan met ons gebeur? Wat het nog kortgekom in die Ou Testament?
Waarom kon hulle nie, sonder ons, die voleinding bereik nie? Omdat Christus nog nie gekom het nie. Hy voltooi alles. Wat bedoel die skrywer? Ons het, net soos die gelowiges in die Ou Testament, ’n wedloop wat voor ons lê. In plaas daarvan om nou te huiwer, “geestelik moeg te word en uit te sak” (12:3), moet die lesers met volharding die wedloop hardloop, “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof” (12:2). Wat probeer hy sê? Die hele Ou Testament het op Jesus gewag. Julle het nou by Hom uitgekom. Hou vas aan Hom. Hy is alles. Julle het die logiese eindpunt van die Ou Testament bereik. Verre daarvandaan dat die Hebreërskrywer negatief is oor die Ou Testament, is hy inteendeel volkome positief. Hy is net negatief teenoor dié aspekte waarheen sy lesers wou terugkeer omdat dit ten koste van Christus sou wees, dié aspekte van die Ou Testament wat deur Christus vervul is én só vér oortref is dat om daarheen terug te keer, sou beteken om Christus te verag, sy bloed te minag, en sy Gees te beledig (10:29).
4.3 TERUGKEER?
Ons het nou twee groepe in die Nuwe Testament gekry wat wou terug na die Ou Testament: •Die een groep wou net hulle geloof verryk. Hulle wou by Christus ook die wet, die Sabbat en die feeste byvoeg. •Die ander groep het oorweeg om Christus heeltemal te los en terug te gaan na die godsdiens van die Ou Testament, na die tempel en die priesters en die offers, en die wet en die ou verbond.
Een van die ontstellende insigte wat ons gekry het, is dat albei ewe gevaarlik is. Selfs net dit wat op die oog af so onskuldig gelyk het, om net ’n paar dinge by Christus by te voeg, sou volgens Paulus beteken dat Christus vir hulle verder geen betekenis sou hê nie, dat hulle die band met Hom sou verbreek, en die genade van God verbeur (Gal 5:2, 4). In Galasiërs sowel as Hebreërs word volkome negatief gekyk na enigiets in die Ou Testament wat met Christus kompeteer en selfs net iets by Hom wil byvoeg. Natuurlik is daar dinge en persone in die Ou Testament wat volkome in harmonie met Hom voortgaan. Ons is almal kinders van Abraham, ons dien dieselfde God as hy, ons word op die mak olyfboom geënt, dit is op die ware Godsvolk van die Ou Testament, ons dien die Messias van die Ou Testament, en baie, baie ander persone en sake. Maar die totale formele godsdiensbeoefening (kultus) is nie net vervul nie, maar vervang: Die wet van Moses, die besnydenis, die Sabbat, die tempel-, priester-, offer- en feestesisteem.
En nou? Presies waar pas die huidige Christene in wat wil terug na sekere gebruike van die Ou Testament? ’n Mens kry nie die indruk dat hulle dit ten koste van Christus wil doen soos die Joodse gelowiges in Hebreërs nie. Wil hulle net hulle geloof “verryk” soos die Galasiërs? Is dit nie net so gevaarlik as wat dit destyds was nie?
5
NET DIE HEBREEUSE NAME VAN GOD EN JESUS?
5.1 DIE OORSPRONKLIKE BYBELTALE
Daar is nog ’n tendens wat by sommige Christene. Hulle is oortuig dat hulle die presiese Hebreeuse name van God en van Jesus moet gebruik. Hierdie Name word deur verskillende groepe op verskillende maniere gespel en uitgespreek.
Die Naam van God: Jahwe Die spellingwyses wat deur die verskillende groepe aangegee word, is onder andere Jehova, Jahwe, Jahweh, Jahueh, Jahuweh.
Die Naam: Jesus “Jesus” is eintlik die Afrikaanse weergawe van die Griekse vorm van Jesus se Naam wat in Grieks as “Jêsoes” uitgespreek word. Maar in Hebreeus was dit dieselfde naam as “Josua” van die Ou Testament. Groepe se uitspraak wissel: Jehoshua, Jahushua, Jeshua of Jahüah.
Daar word verskillende redes aangegee waarom God en Jesus se Name net in hierdie oorspronklike vorm gebruik mag word. Dis uit eerbied, of omdat dit die “geïnspireerde” Name is. Dit is immers die Name wat ons in die Hebreeus van die Ou Testament kry. Moet ’n mens dit regtig só aanvaar? Die Bybel is in twee verskillende tale geskryf, die Ou Testament in Hebreeus (en ’n paar dele in Aramees), en die Nuwe Testament in Grieks. Dit beteken dat God en Jesus se Name in twee tale voorkom: •God se Naam kom in die Hebreeuse Ou Testament voor as “Jahwe” en in die Griekse Nuwe Testament as “Kurios”. Ons ken dit in albei Testamente as “Here”.
•Jesus se Naam kom in die Ou Testament voor as Jehoshua (Josua in Afrikaans). Maar in die Nuwe Testament kom dit voor in die Griekse vorm: Jêsous. Sy tydgenote het Hom waarskynlik Jehoshua genoem (hulle het Hebreeus, of liewer Aramees gepraat), maar op sy sendingreise het Paulus Hom Jêsoes genoem.
Van sowel God se Naam as Jesus se Naam het ons dus in die Bybel twee vorms, een in die Hebreeuse Ou Testament, en een in die Griekse Nuwe Testament. Waarom sou ons nou juis die Hebreeuse vorms moet gebruik? Die Griekse vorms staan mos ook in die Bybel, net in ’n ander deel van die Bybel. Sommige is egter oortuig dat die Nuwe Testament in werklikheid oorspronklik ook in Hebreeus geskryf is en later eers in Grieks vertaal is. En hierdie vertalers sou dan die fout gemaak het om die Name in Grieks te vertaal. Albei Name moes presies in hulle Hebreeuse vorm behoue gebly het omdat dit die oorspronklike geïnspireerde Hebreeuse vorms is. En ons mag net hierdie vorms gebruik omdat net hulle geïnspireer sou wees. Maar die Nuwe Testament is nie oorspronklik in Hebreeus geskryf nie. Waarom sou Paulus vir ’n gemeente in Griekeland (byvoorbeeld die gemeente in Korinte of in Tessalonika) in Hebreeus geskryf het as die gemeentelede heidene was wat Grieks gepraat het en sekerlik nie eens Hebreeus kon lees nie? Waarom sou Lukas, wat vir die Griek Teofilus skryf, in Hebreeus vir hom skryf? Grieks was die spreektaal rondom die Middellandse See, en dit is waarheen die evangelie versprei het. Daarom is dit eintlik vanselfsprekend dat die Nuwe Testament in Grieks geskryf is. Selfs die Brief aan die Hebreërs wat aan Joodse Christene geskryf is, is in Grieks geskryf. Baie Jode wat om die Middellandse See gewoon het, was al in die derde of vierde geslag daar sodat hulle self nie eens meer Hebreeus geken het nie. Daarom het die Jode al omtrent 200 jaar voor Jesus se geboorte die Ou Testament in Hebreeus vertaal sodat die buitelandse Jode dit kon lees. In baie gevalle het die Jode selfs Grieks gebruik tydens hulle byeenkomste in die sinagoge – ter wille van hulle eie kinders en die heidene wat hulle byeenkomste bygewoon het. Wanneer die skrywers van die Nuwe Testament uit die Ou Testament aanhaal, haal hulle juis by voorkeur uit hierdie Griekse vertaling van die Ou Testament aan omdat hulle juis hierdie vertaling in hulle sendingwerk moes gebruik.
Hierdie Jode en heidene het dus glad nie meer in hulle Bybel die Name van God en Jesus in Hebreeus gekry nie, maar net die Griekse vorms daarvan.
5.2 JAHWE – HERE?
Dit alles beteken dat die skrywers van die Nuwe Testament nie self die Griekse vertaling van God se Naam “Here” (kourios, uitgespreek as koerios) uitgedink het nie, maar eenvoudig die woord gebruik het wat al ’n paar eeue lank in die Septuagint gestaan het en deur die buitelandse Jode gebruik is. ’n Mens kan nogal ’n bietjie kyk na hierdie vertaling. Die Septuagint vertaal die Hebreeuse Naam “Jahwe” met die Grieks “Kourios”. Ons vertaal dit met “Here”. Jahwe is ’n naam, maar Kourios is ’n titel. En “Here” eintlik ook. Is dit dan nie bietjie vreemd dat God se Naam met ’n titel vertaal is nie? Waar kom so ’n vertaling vandaan? Die Jode het teen hierdie tyd – twee eeue voor Christus – al vir eeue lank nie meer God se Naam uitgespreek nie. Hulle was bang hulle oortree die derde gebod en misbruik sy Naam. Dit was volgens hulle eenvoudig veiliger om dit dan liewer glad nie te gebruik nie. Hulle het later eenvoudig nie meer geweet wat die uitspraak was nie, omdat hulle Bybel net medeklinkers gehad het en geen klinkers nie. Daar het dus net jhw gestaan. Vroeër het mense gedink dit was Jehowa. Vandag is ons redelik seker dat dit iets soos Jahwe was, eintlik Jagwe met ’n sagte g. Dink, terloops, net hoe goed hulle die Ou Testament moes geken het dat hulle dit sonder klinkers kon lees. Vra iemand om ’n deel uit die Ou Testament oor te skryf sonder die klinkers, en kyk hoe ver kom jy! In die Septuagint is jhw dus vertaal met Kourios, Here, ’n Griekse woord wat iets beteken soos baas, eienaar, die een wat regeer. Hoekom het die vertalers dit gebruik? Wanneer die Jode die Ou Testament gelees het en by die Naam jhw gekom het, het hulle dit nie uitgespreek nie. Hulle het een van twee woorde gesê: óf die Hebreeuse woord “sheem” wat “naam” beteken, óf die Hebreeuse woord “adonai” wat baas, eienaar, die een in beheer, beteken. Die vertalers het toe die Hebreeuse woord “adonai” vertaal met die Griekse woord kurios wat ook baas,
eienaar, die een in beheer, beteken. Dit is natuurlik baie jammer, want met hierdie vertaling het die gevoel dat God ’n eienaam het, eintlik verlore gegaan. Twee dinge het nou hieruit voortgekom. Die skrywers van die Nuwe Testament het eenvoudig hierdie vertaling by die Septuagint oorgeneem en God se Naam in die Nuwe Testament as Kourios (wat ons ken as “Here”) vertaal in plaas van Jahwe. Waarom? Wel, hulle het natuurlik self nie geweet hoe sy Naam oorspronklik uitgespreek was nie. Dus het hulle ook nie veel van ’n keuse gehad het nie. Hulle het maar net vertaal wat die Jode uitgespreek het as hulle by hierdie Naam gekom het. Maar presies dieselfde het toe ook in ons vertalings van die Ou Testament gebeur. Alhoewel daar in die Hebreeus Jahwe staan, is dit deurgaans met “Here” (Lord, Herr) vertaal en nie as Jahwe behou nie. En die hele Westerse wêreld het dit gedoen. Dis interessant dat die vertalings in Afrikatale vroeg in die vorige eeu, die Naam behou het in die ou Engelse vorm van Jehovah. Dit is dus jammer dat ons nie meer in ons vertalings van die Ou Testament iets soos “Jahwe” in plaas van “Here” het nie, en daarom is dit so lekker om byvoorbeeld die NJB te lees waarin dit wel gebruik word. En natuurlik kan ’n mens dit ook persoonlik doen. Maar of dit ’n verpligting moet wees, is ’n ander vraag wat ons later sal bespreek.
5.3 Jesus
Met die naam “Jesus” het dit effens anders verloop. Sy Naam was waarskynlik Jehoshua – al is daar verskillende spelwyses moontlik. Toe Paulus die Griekse wêreld in is, het hy dit dadelik in Griekse letters oorgesit – Jysous, wat eintlik Jêsoes uitgespreek word. Waarom juis só? Ook in hierdie geval het hy eenvoudig die Septuagint gevolg wat Josua se naam in die Ou Testament so vertaal het, byvoorbeeld in Josua 1:1. Dit sou natuurlik vir Paulus vreemd gewees het om met ’n Hebreeuse naam vir Jesus die Griekse wêreld in te gaan. Trouens, Paulus het self twee verskillende name gehad. In Palestina was hy Saul of Saulus, (Hand 9:1,4). Selfs lank ná sy bekering word hy nog Saulus genoem (Hand 9:26; 13:2). Maar toe hy en Barnabas op hulle eerste sendingreis die Griekssprekende wêreld ingaan, noem Lukas hom skielik Paulus, wat sy ander naam was, ’n Griekse naam (Hand 13:9). Daar was meer sulke dubbelname soos Silas en Silvanus. Dit is dus terloops nie so dat Paulus se naam by sy bekering verander het van Saulus na Paulus nie, al is dit ’n baie mooi gedagte. Maar intussen is dit duidelik dat Jesus se Hebreeuse naam Jehosua nie die Griekse wêreld ingegaan het nie, maar die Griekse vertaling wat ons as “Jesus” ken.
5.4 IS DIE HEBREEUSE NAME ’N MOET?
Dit is dus vreemd om nou aan Christene die verpligting op te lê om na die Hebreeuse name terug te gaan. In beginsel kan daar natuurlik niks mee verkeerd wees om die oorspronklike Hebreeuse name te gebruik nie. Ek het reeds verwys na die een Engelse vertaling, die NJB, wat in die Ou Testament God se Naam as Jahweh vertaal, en dis lekker om dit te lees omdat dit ons weer meer die gevoel gee dat God regtig ’n Naam gehad het. “Here” is mos nie regtig ’n eienaam nie, al beleef die meeste van ons dit waarskynlik tog so. Maar om dit verpligtend te maak, is vreemd in die lig van dit wat ons in die Nuwe Testament kry: Griekse vertalings vir die Griekssprekendes, wat seker beteken Engelse vertalings vir die Engelssprekendes, en Afrikaanse vertalings vir die Afrikaanssprekendes. Loop dié wat die Hebreeuse name vereis, nie eintlik dieselfde pad as die Moslems nie? Hulle heilige boek, die Qur’an (Koran), is oorspronklik in Arabies geskryf. En nou moet dit nog altyd in Arabies gelees en aangehaal word al verstaan die mense dit nie. Miskien is die Moslems net konsekwenter as hierdie Christen-groepe. Hierdie groepe se argument is dat hierdie Name geïnspireer is en daarom net so gebruik moet word. Maar hulle glo tog die hele Ou Testament is geïnspireer. Dan moet ons mos, soos die Moslems, aanhou om die hele Ou Testament net in Hebreeus te lees. Maar dan word die “probleem” van die Nuwe Testament nog erger. En eintlik is dit nog maar net die helfte van die probleem. As die Hebreeus geïnspireer is, dan tog ook die Hebreeuse skryfwyse. Hoe kan ons dan God en Jesus se Name in ons soort letters skryf? Dan moet ons dit in Hebreeuse letters skryf. En die Bybel in Hebreeus lees. Dít is tog wat geïnspireer sou wees.
6
ALLERLEI
Ramshoring, Christelike feeste soos Kersfees, dag- en maandname en jaarberekening, die begin van die dag, verjaarsdae, vleis van “onrein” diere, woestyntyd en drome. Dit is die kleiner sake wat nie elkeen ’n hoofstuk regverdig nie. Daar is baie kleiner dinge waarin mense wil terug na die Ou Testament.
6.1 WANNEER BEGIN ’N DAG?
Dis ’n taamlik algemene oortuiging dat die dag in die Bybel in die aand begin, en nie in die oggend nie. Dit klink taamlik oortuigend. Lees ons dit dan nie oor en oor in Genesis 1 nie? “Dit was aand en dit was more”. Ons sal terugkom na hierdie uitdrukking in Genesis 1. Maar wat kry ons in die res van die Bybel? Kom ons kyk na ’n paar verhale. Ná Lot se vrou ’n soutpilaar word, besluit sy twee dogters om met hulle pa seks te hê om sy nageslag voort te sit. Hulle maak hom dronk sodat hy nie sal besef wat aangaan nie. “Daardie nag het hulle hom dronk gemaak en die oudste dogter het met hom gemeenskap gehad ... Die volgende dag sê sy toe vir die jongste: Ek het verlede nag by hom geslaap” (Gen 19:33-34). Kom ons kyk mooi wat hier staan oor dag en nag. Die oudste slaap die nag by hom, en sê die volgende dag vir haar suster. As die dag in die aand begin het, moes daar tog gestaan het: “Daardie nag het hulle hom dronk gemaak en die oudste dogter het met hom gemeenskap gehad ... Later daardie dag (toe die son opkom) sê sy toe ...” Maar wat ons in Genesis lees, beteken dat die oggend die begin van die volgende dag was: “Die volgende dag ...” Die oggend kon nie die volgende dag gewees het as die dag in die aand begin het nie. Dit moes dan mos dieselfde dag as die vorige nag gewees het. Uit wat hier staan (die nag, en dan die volgende dag) is dit duidelik dat die oggend nie dieselfde dag is as die vorige nag nie. Die oggend het ’n nuwe dag begin. Hier is nog ’n verhaal. “Toe stuur Saul mense na Dawid se huis toe om hom dop te hou en hom in die môre dood te maak. Maar sy vrou Mikal het hom gewaarsku: As jy nie vannag vlug nie, word jy môre doodgemaak” (1 Sam
19:11). Praat Mikal nie verkeerd nie? Sy moes mos iets gesê het soos: “As jy nie vannag vlug nie, word jy later vandag, wanneer die son opkom, doodgemaak.” Nee, sy praat asof die dag in die oggend begin. “Môre” was nie deel van dieselfde dag as die vorige aand nie. Op ’n keer maak Israeliete die stam van Benjamin dood en sit toe by Betel en treur daaroor. “Daar het hulle tot die aand toe in die teenwoordigheid van die Here gesit ... Die volgende môre het die volk vroeg opgestaan” (Rigt 21:2-4). Die Hebreeus vir “die volgende môre” is eintlik “die volgende dag”. Wanneer die son opkom, is dit nie meer dieselfde dag as die vorige aand nie. Ons kry dieselfde in die Nuwe Testament. “Toe dit aand word, het Jesus en sy dissipels na die see toe gegaan ... Die volgende dag kom daar toe ander skuitjies ...” (Joh 6:16,22). Hoekom nie: “Later die dag toe die son opkom” nie? “Ons het die Sondag bymekaargekom vir die gemeenskaplike maaltyd. Paulus het die gelowiges toegespreek, en aangesien hy die volgende dag sou vertrek, het hy tot middernag aangehou” (Hand 20:7). Hulle vergader tot middernag. As die son weer opkom, is dit die volgende dag, nie later dieselfde dag nie. “Die soldate het hulle opdrag uitgevoer en Paulus dwarsdeur die nag begelei tot in Antipatris. Die volgende dag het hulle die ruitery met Paulus verder laat gaan ...” (Hand 23:31-32). Verder is dit interessant hoe die Bybel die tyd van die dag aandui. Die uur word bereken van sonop af, nie van sononder af nie. Wanneer Jesus gekruisig word, lees ons dat dit om twaalfuur donker word. Die Grieks lees: “die sesde uur”. Indien die dag in die aand begin het, was die sesde uur twaalfuur die nag. Maar Jesus is tog in die dag gekruisig. Hulle het die ure van sonop af bereken. Dit is wanneer die dag begin het. Sover ek weet, is daar net een keer ’n onduidelikheid in hierdie verband. In Daniël 8:14 lees ons van “Twee duisend drie honderd aande en oggende.” Maar dis nie duidelik waarom hy hierdie volgorde gebruik nie. Trouens, dis goed moontlik dat hy dit doen om halfdae aan te dui. “’n Aand en ’n oggend” is nie ’n volle dag nie. Wat van die res van die dag, die middag?
En die skeppingsdae? Maar staan daar dan nie uitdruklik: “En dit was
aand en dit was môre, die eerste dag” nie? (Gen 1:5; 1953-vertaling). Dan het die dag mos in die aand begin. Dit is een van die opvallendste en algemeenste misverstande in die Bybel dat hierdie uitdrukking beteken die dag het in die aand begin. Is ’n aand en ’n môre ’n volle dag? Wat van die middag? Of mis ons die hele punt? Die Here het die eerste dag die lig geskep. Hy het die lig en duisternis van mekaar geskei, en gesien dit is goed. Ná Hy dit gedoen het, word dit toe aand, en toe dit môre word, was die eerste dag voltooi, en het die volgende dag begin. Dus nadat die Here die dag se werk afgehandel het, het dit aand geword, en toe dit oggend word, was die eerste dag verby, en kon Hy met die tweede dag se werk begin. Dit beteken dat die dag in die oggend begin het.
En die Sabbat? Maar wat dan van die Sabbat en die feeste? Dit staan oor en oor uitdruklik dat die Sabbat van aand tot aand gevier moet word. “Julle moet rus van sononder af op die negende van die maand tot sononder op die tiende” (Lev 23:33). Oor en oor kom hierdie besondere nadruk op die aand voor in die dele oor die Sabbat en die feeste (Eks 12:6, 18). Maar bevestig dit nie juis dat gewone dae van oggend tot oggend geloop het nie? Waarom sal daar soveel nadruk geplaas word op die aand tot aand van die Sabbat as dit vanselfsprekend was dat die dag van aand tot aand loop? Dan was dit glad nie nodig om dit te vermeld nie. Maar as dit uitsonderlik was omdat die dag altyd in die oggend begin het, is dit verstaanbaar dat dit beklemtoon moes word. Maar dit beteken dat die Sabbatdag tegnies soos al die dae eers die oggend begin het, en dat Israel die aaning moes maak om dit al die vorige aand te begin vier. Dit is tog wat geïmpliseer word in Nehemia 13:19 waar ons lees dat die poorte van die stad gesluit moes word “sodra dit daar begin donker word op die aand voor die Sabbat.” Tegnies was dit nog nie Sabbat die aand voor die Sabbat nie omdat die dag eers die volgende oggend begin het. Maar hulle moes die Sabbat só vier.
6.2 DIE RAMSHORING
Daar is eintlik twee musiekinstrumente: die ramshoring en die trompet. Die ramshoring is gemaak van die horing van ’n skaapram en soms van metaal, maar die trompet was altyd van metaal. Soms word daar nie duidelik tussen die twee onderskei nie, soos sommige ouer Engelse vertalings wat soms “trompet” vir die ramshoring gebruik. Die horing het ’n skerp klank en kan nie regtig as musiekinstrument gebruik word nie. Daar word die eerste keer na die ramshoring verwys by die afkondiging van die wet (Eks 19:13; 20:18). Die ramshoring was deel van die lewe van Israel en word vandag nog in die sinagoge gebruik. Dit is in verskillende situasies gebruik, situasies wat heeltemal van mekaar verskil, sodat ’n mens nie ’n spesifieke betekenis daaraan kan gee nie. Dit is byvoorbeeld geblaas: •om die Here te loof (Ps 47:6); •tydens die ramshoringfees en die aankondiging van die jubeljaar (Lev 23:24; 25:9); •tydens sekere offers in die tempel (2 Kron 29:26); •toe die ark na Jerusalem gebring is (2 Sam 6:15); •by ander feesgeleenthede (2 Sam 6:15; 1 Kon 1:34); •as waarskuwing dat daar ’n vyand kom of ander onheil dreig (Hos 5:8; Jer 6:1; Eseg 33:6); •om die volk tot oorlog op te roep (1 Sam 13:3; Jer 42:14); en •by baie ander geleenthede.
Die ramshoring was ook in gebruik tydens Jesus se lewe op aarde (Matt 6:2; waar “uitbasuin” die vertaling is van “’n ramshoring blaas”, 1983-vertaling). Dit word ook nog genoem wanneer daar terugverwys word na sekere gebeure in die Ou Testament (Heb 12:19). Maar verder lees ons net van die ramshoring (soms vertaal as “trompet”, en soms as “basuin”) in verband met die wederkoms van Jesus (Matt 24:31; 1 Kor 15:52; 1 Tess 4:16; en dikwels in Openbaring). Maar dit kom nie voor in die lewe van die Christene nie. Dit was deel van die lewe van Israel, en soos die verwydering tussen Israel en die kerk al groter geword het, het dit eenvoudig saam met baie ander dinge verdwyn, gebruike soos die Sabbat, feeste, en die hele tempelkultus. Maar die ramshoring is vandag in baie gevalle deel van Christene se terugkeer na die Ou Testament. Sommige heg besonder baie waarde daaraan, en het selfs besondere ervarings daarmee. Op sigself kan daar natuurlik nie iets mee verkeerd wees nie. Maar daar kan twee probleme ontstaan. Mense kan dit vir ander verpligtend wil maak. Dit sou egter net so vreemd wees as die herinstelling van die Sabbat en die feeste. Die ramshoring het eenvoudig verdwyn uit die lewe van die vroeë Christene. Die tweede probleem is om dit in die openbaar te blaas. Dit is heeltemal ’n onbekende geluid, en dit is nie ’n strelende geluid nie. Iemand in ’n woonstelkompleks kan besluit om dit elke aand op ’n gesette tyd te blaas – en wel om diep godsdienstige redes. Maar die res van die inwoners sal dit steurend vind. Hulle sal nie eens weet wat so ’n geraas maak nie. Dit kan dus beswaarlik beskou word as ’n getuienis vir die evangelie. Die situasie in die Bybel was totaal anders omdat dit ’n bekende gebruik was om dit te blaas. Almal het geweet wat dit beteken.
6.3 EN DIE BESNYDENIS?
Dit is opvallend dat, sover ek weet, geen groep wat op pad is terug na die Ou Testament, die besnydenis weer in gebruik wil neem nie. ’n Mens sou minstens net sulke sterk argumente vir die besnydenis as vir die Sabbat kon aanvoer, en selfs sterker argumente as vir die feeste. •Die besnydenis word net soos die Sabbat en die ander gebruike “ewige” gebruike genoem. Alreeds by die instelling van die besnydenis word dit ’n “ewige verbond” genoem (Gen 17:13; 1953-vertaling). •Wie nie besny was nie, moes net soseer uit die volk uitgesluit word as dié wat nie die Sabbat onderhou het nie, en was ook met die dood strafbaar (Gen 17:14; Eks 4:24-26). •Die Here maak byna vir Moses dood omdat hy nie sy seun besny het nie (Eks 4:24-26). •Toe die volk vir ’n tyd lank tydens die woestyntog nie meer besny is nie, het die smaad van die Here op hulle gerus, die smaad wat eers weer weggeneem is toe Josua almal ná die intog in Kanaän laat besny het (Jos 5:9). •Die besnydenis word selfs baie sterker direk met die werk van die Here verbind as die Sabbat. Die Here sal self die Israeliete besny met ’n geestelike besnydenis (Deut 30:6; 1953-vertaling). •Jesus is self ook besny (Luk 2:21). •Ons weet die Christene in Jerusalem het nog hulle seuntjies besny (Hand 21:21).
Dis opvallend hoe die ooreenkoms lui wat tydens die beroemde kerkvergadering in Jerusalem bereik is (Gal 2:7-9). Die vraag wat die Christene in Jerusalem so
hewig ontstel het, was of Paulus toegelaat mag word om die evangelie sonder die besnydenis aan die heidene te verkondig. Die ooreenkoms het toe gelui dat, terwyl Paulus dit wel mag doen, Petrus sou voortgaan om “die evangelie van die besnydenis” aan die Jode te verkondig (Gal 2:7). Dit was ’n toegewing aan Paulus dat hy die besnydenis mag los. In Jerusalem het die standaard-evangelie die “besnydenis-evangelie” gebly. Waarom gebruik ek juis hierdie vreemde uitdrukking: “die evangelie van die besnydenis”? Dit is hoe die Grieks lui in Galasiërs 2:7-9. Die 1953-vertaling het dit nog só. En dit wys hoe belangrik die besnydenis nog vir die vroeë Joodse Christene was. En dié wat wil terugkeer na die Ou Testament? Is daar nie net sulke sterk gronde om weer met die besnydenis te begin as met die Sabbat nie, of selfs sterker gronde?
6.4 URE, DAE, MAANDE, JARE, KERSFEES, VERJAARSDAE
Kom ons kyk na die ure, dae, maande en jare van die Bybel. Miskien kan dit ons help om oor ons Kersfees- en verjaarsdagviering te dink.
Ure Waar kom ons 24-uur indeling van die dag vandaan? Voor die ballingskap het die Bybel ’n baie eenvoudige dagindeling gehad: Dagbreek (Gen 19:15), oggend, middag, laat middag, aand, nag (oa Gen 24:11). In die Bybel kom ons 24-uur indeling eers baie laat tydens die ballingskap in Babilon voor (Dan 3:6,15; 4:19,33; 5:5; King James). Die Bybel het dit dus by die Babiloniërs gekry. Maar in die Nuwe Testament het ons skynbaar twee verskillende sisteme om die bepaalde uur van die dag te bereken. •Volgens Johannes gee Pilatus Jesus die sesde uur oor om gekruisig te word (19:14). •Maar volgens Markus word Jesus die derde uur gekruisig (15:25). •En volgens Lukas duur die verduistering dan van die sesde uur tot die negende uur (23:44).
Iewers pas iets nie. Johannes gebruik ’n ander tydsberekening as Markus en Lukas. Hulle twee begin by sonop. Dan is Jesus teen negeuur gekruisig (die derde uur ná sonop) en van twaalfuur af was die verduistering tot drieuur toe. Maar Johannes het ’n ander berekening. Jesus word die sesde uur deur Pilatus oorgegee om gekruisig te word. Dit moes sesuur die oggend gewees het, wat baie vroeg is, maar ons weet die Joodse leiers het Jesus al baie vroeg by Pilatus gehad (Joh 18:28). Johannes bereken die tyd dus van middernag af.
As ons nou die twee verskillende tydsberekenings bymekaar bring, is Jesus die oggend sesuur oorgelewer, teen negeuur gekruisig, en die duisternis het van omtrent twaalfuur tot drieuur die middag geduur. Dit word taamlik algemeen aanvaar dat Markus en Lukas die Jode se tydsberekening gebruik het en Johannes die Romeine s’n. Dit kom ooreen met wat ons alreeds vasgestel het: dat die dag vir die Jode met sonop begin het. Indien die dag volgens die Jode in die aand begin het, moes Johannes geskryf het dat Jesus die twaalfde uur oorgelewer is. Ons het dus in die Bybel twee dagindelings, een wat die Jode by die Babiloniërs gekry het en nog een wat hulle by die Romeine gekry het. Moet ons dan nie terugkeer na die oorspronklike eenvoudige indeling wat glad nie ure geken het nie? Sou dit nie “terug na die Ou Testament” gewees het nie?
Dagname In die Bybel het net een dag ’n naam gehad: Sabbat. Die ander dae is met nommers aangedui soos “die eerste dag” (na Sabbat), of “die tweede dag” (na Sabbat). Dis moontlik dat ons so ’n voorbeeld van “die derde dag” het (Joh 2:1), wat dan Dinsdag sou wees. Moderne vertalings wat van “Sondag” praat (oa Hand 20:7), gebruik die naam wat ons vandag vir die eerste dag het. “Terug na die Ou Testament” sou beteken dat ons afsien van dagname en net nommers gebruik.
Maandname Die maande se name is nogal bietjie ingewikkelder. •Vroeg in die Ou Testament was daar vier ou Kanaänitiese name wat Israel oorgeneem het: Abib (Eks 13:4), Sif (1 Kon 6:1), Etanim (1 Kon 8:2), Bul (1 Kon 6:38). •Later het hierdie name in onbruik geraak en is deur nommers vervang of verduidelik, sodat die maand Sif “die tweede maand” genoem word (1 Kon 6:1; Hag 1:1; 2:1; Sag 1:7; 7:1).
•Ná die ballingskap het Israel ’n aantal Babiloniese name aanvaar. Sommige van hulle kom in die Ou Testament voor, en ander nie. Nisan (Neh 2:1), Tammus (Eseg 8:14), Elul (Neh 6:15), Kislef (Neh 1:2), Adar (Esra 6:15), Sebat (Sag 1:7). Die name self, en die blote feit dat die meeste van hierdie name eers in Esra en Nehemia voorkom, bevestig dat dit uit Babilon afkomstig is.
Dit beteken dat dit skynbaar nie so vreemd in die Bybel is om dinge van heidense oorsprong oor te neem nie. Israel het selfs vir God name van Kanaänitiese gode gebruik soos die woord El. Ook El Eljon en El Berit (Rigt 9:46) was ’n heidense godenaam, wat later vir die Here gebruik is. Indien Israel maandname en selfs godename van heidene oorgeneem het, moet dit by dagname (soos Sondag) en Kersfees juis anders wees?
Jare Die berekening van jare is ook interessant. In die Ou Testament was daar twaalf maande, maar dit was maanmaande. Dit het beteken dat hulle twaalf maande net 354 dae vir ’n jaar gehad het, sodat hulle elke drie jaar een maand moes byvoeg om by die sonjaar te bly. Hulle het hierdie dertiende maand “die tweede maand Adar” genoem. Moet ons terug daarnatoe?
Kersfees Dit is nogal algemeen onder hierdie Christene om nie meer Kersfees te vier nie. Die redes is dat dit ’n heidense feesdag was, dat Christus nie op 25 Desember gebore is nie en ons nie in die Bybel ’n opdrag kry om sy geboorte te vier nie. Dit is alles waar. Maar kan hierdie feite nie ook anders verstaan word nie? Seker omtrent alle mense weet al teen hierdie tyd dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie. Trouens, die vroeë Christene het dit nog beter geweet as ons. Hulle het in Israel gewoon en geweet 25 Desember is die middel van die winter. Daarom sou die skaapwagters nie in die nag in die oopte by die skape gewees het nie (Luk 2:8 ev).
Wat die heidense karakter van Kersfees betref, is dit ook taamlik algemeen bekend dat dit in die Noordelike Halfrond die fees was by die draai van die jaar, by die “geboorte” van die nuwe jaar. Wat doen die Christene toe? Hulle vier op die heidense feesdag ’n fees vir Jesus. Hulle het dit met ander dinge ook gedoen. Hulle het telkens ’n heidense tempel oorgeneem en as Christelike kerkgebou gebruik. Is dit nie wonderlik nie! Sê nou ons kan ’n paar dobbelhuise oorneem en as makro-gemeentes se kerkgeboue inrig! Prys die Here. Wat onder die son kan daarmee verkeerd wees? Dis oorwinnings vir Jesus. Net soos ’n heiden se hart deur die Gees verander word, kan ’n dag ook ’n totaal nuwe inhoud kry.
Verjaarsdae Hier en daar is daar nou ook teenstand teen die vier van verjaarsdae. ’n Mens sien natuurlik op ons kalender wanneer jy verjaar. Maar die argument is nou dat ons kalender die Gregoriaanse kalender is, deur Gregorius ingestel, en ons mag nie meer hierdie kalender volg nie omdat daar ’n ander kalender in die Bybel is. Maar ons het al gesien dit kan op ’n taamlik ingewikkelde berekening uitloop. Ons sal moet terug na die Bybel se berekening van maanmaande en van korter jare. Waarom? Sê nou die man wat die eerste kar gebou het, was ’n ongelowige? In die Bybel lees ons van Herodes se verjaarsdagviering (Matt 14:6). Natuurlik is hy en sy feeste geen goeie voorbeeld vir ons nie, maar dis tog seker duidelik dat dit nie net hy sal wees wat in die Bybel sy verjaarsdag gevier het nie. Mense het deurgaans geweet hoe oud hulle is. Maar wat het ons intussen geleer oor die Bybel se gebruik van heidense gegewens? •Ure Die uurindeling van die dag het Israel by die Babiloniërs (heidene) gekry. En hulle het skynbaar selfs twee verskillende sisteme gebruik. •Maandname. Hulle het sommige van die Kanaäniete en later ander van die Babiloniërs gekry.
Hoekom mag ons dit dan nie met Kersfees doen nie, en selfs met Goeie Vrydag en Paassondag nie? Al het ons nie opdragte in die Bybel hieroor nie, waarom is dit verkeerd om tot eer van die Here sekere dae te vier wat so beslissend vir ons verlossing is? Trouens, waarom moet ons ’n opdrag in die Bybel hê om Jesus se geboortedag, of sterfdag, of opwekkingsdag te vier? Daar is ook geen opdrag in die Bybel om die dag van my eie bekering te vier nie, of my doopdag, of my troudag. Ook verkeerd?
6.5 DROME
In die Bybel is daar dikwels sprake van drome. En dis interessant om te kyk hoe dit voorkom. •Dis opvallend dat daar juis net in ’n paar boeke dikwels sprake is van drome (Genesis, Daniël, Matteus 1 en 2), maar in die res van die Bybel baie selde en meestal glad nie. •Skynbaar word die meeste drome deur ’n mens se daaglikse besig-wees veroorsaak, en het nie veel waarde nie (Pred 5:2,6). •Daar is selfs uitsprake wat beteken dat drome nie betroubaar is nie, en nie werklik waarde het nie (Jes 29:7-9, Job 20:8). •Die Bybel is dus oorwegend negatief oor drome (Deut 13:1-5; Ps 73:20; Jer 23:27; 29:8; Sag 10:2), en net by uitsondering positief (Job 33:15; Dan 1:17). •Daar is sprake van goeie drome (Gen 40:9 ev; 1 Kon 3:5; Matt 1:20; 2:13,19) en ook van slegte drome (Gen 40:16 ev; Jud:8). •By geleentheid kan die Here deur drome met mense praat. Die Here kan wonderlike dinge deur drome vir mense sê (Gen 31:10 ev; 1 Kon 3:5 ev), maar ook vreeslike dinge (Gen 40:16 ev). •Drome kan op die regte manier gebruik word (Matt 1:20 ev; 2:13 ev; 2:19 ev), maar ook op baie verkeerde maniere (Deut 13:1-5; Jer 23:25 ev; 28:8 ev). •Daar is sprake daarvan dat God deur drome en visioene met profete kan praat (Num 12:6), maar daar is ook ernstige waarskuwings teen profete wat valslik daarop aanspraak maak dat God deur drome met hulle gepraat het (Jer 23:25 ev; 29:8).
Die uitleg van drome Daar is gelowiges wat spesialiseer in die maniere om drome uit te lê. Daar word boeke geskryf met alle inligting daaroor. Hulle is oortuig dat God op ’n staande manier met mense in drome praat. Elke droom moet so goed as moontlik onthou word en hoe meer detail hoe beter – en ’n mens moet nogal aanleer om jou drome te onthou – en dan moet die betekenis van die droom uitgelê word deur aan die simbole die regte betekenis te gee. Wat kry ons daaroor in die Bybel? •Daar is geen geval in die Bybel waar die Here deur ’n reeks opeenvolgende drome met iemand praat nie. Dis altyd enkeldrome. •Verder is die reël dat gelowiges se drome altyd dadelik duidelik is. Jakob (Gen 31), Salomo (1 Kon 3), Josef (Matt 1:20 ev; 2:19 ev). Hulle het nie hulp of inligting nodig om die droom te verstaan nie. •Dis wanneer die Here met ’n heiden/ongelowige in ’n droom praat, dat die persoon nie die droom verstaan nie (Gen 40,41; Dan 2,4). Dan word dit deur ’n gelowige uitgelê. •Nog voorbeelde van heidene/ongelowiges wie se drome nie duidelik is nie, en dan uitgelê moet word: Die skinker en die bakker (Gen 40), die farao (Gen 41), Nebukadneser (Dan 2). •Daar is een uitsondering, waar ’n ongelowige sy ongelowige maat se droom uitlê (Rigt 7:13 ev). •Dit is opvallend dat Daniël, wat self drome uitgelê het (Dan 1:17), ’n reeks drome of gesigte of visioene ontvang wat dan deur ’n hemelwese uitgelê word. Daaraan sal ons apart aandag gee.
In die lig van my huidige kennis van die uitlê van drome, is die volgende belangrik in die lig van die gegewens in die Bybel. •Daar is nie voorbeelde waar God gereeld en onafgebroke met iemand in drome praat nie. Dit is eenmalige gebeurtenisse.
•Maar dit is wel duidelik dat daar nooit sprake is van meganismes of sisteme wat ontwikkel moes word om drome uit te lê nie. •Die reël is dat gelowiges se drome sondermeer duidelik is en geen uitleg nodig het nie. •Dit is ongelowiges se drome wat uitgelê moet word. Wanneer sulke drome uitgelê word, is daar geen sprake van ’n uitlegsisteem nie. Die een wat die droom uitlê, het nie ekstra kennis of inligting nodig nie. Skynbaar het die persoon eenvoudig die kennis om te sê wat die droom beteken.
Ná die drome van Josef en dié van die sterrekykers (Matt 1:20; 2:12,13,19), verdwyn drome omtrent heeltemal in die Nuwe Testament. Daar is wel ’n verwysing dat ou mense drome sal droom (Hand 2:17), maar daar is geen verdere verwysings daarna nie. Dit is dus moeilik om in die lig van Bybelse gegewens te aanvaar dat die Here vandag op ’n gereelde basis met gelowiges deur drome praat, of selfs met alle mense, want sommige meen drome as sodanig is die gewone manier waarop God met mense praat. Dis ook onbekend in die Bybel dat daar besondere kennis en selfs uitlegsisteme nodig is om drome uit te lê.
Apokaliptiese literatuur Dit is nodig om apart aandag te gee aan Daniël. Hy het ’n hele reeks ervarings gehad. Die eerste is aanvanklik ’n droom genoem (Dan 7:1), maar daarna is dit visioene en gesigte genoem (Dan 7-12). Dit verskil heeltemal van die gewone drome in die Bybel. Daarom sluit die boek Openbaring ook direk by sommige daarvan aan – soos Openbaring 13:1-4 by Daniël 7. Die persone wat die visioene verklaar, is ook nie mense nie, maar hemelwesens (10:4-6). Ons kry dieselfde in Sagaria waar dit “gesigte” genoem word (1:10,18; 2:3; 4:1-2; 5:3,6; 6:5). In hierdie twee boeke in die Ou Testament het ons die begin van die apokaliptiese literatuur, die bonatuurlike beelde wat sy hoogtepunt in Openbaring bereik. Hier kry ons gesigte of visioene wat geen verband het met
die drome in die res van die Bybel nie. Dit is reekse gesigte in plaas van die enkeldrome in die res van die Bybel. En ook hier is daar geen sisteme om dit uit te lê nie. Die hemelwesens weet dadelik wat dit beteken.
Terugskou Wat het ons nou gekry oor die maniere waarop drome uitgelê word deur die mense wat wil terug na die Ou Testament? Hulle siening van drome en die uitleg van drome is vreemd aan die Bybel. •Hulle is oortuig dat God gereeld en onafgebroke met mense deur drome praat, terwyl dit in die Bybel om enkeldrome gaan. •Hulle lê vir gelowiges drome uit terwyl die drome van gelowiges in die Bybel dadelik duidelik is sonder enige uitleg. •Hulle ontwikkel ingewikkelde sisteme om hierdie drome uit te lê, iets waarvan daar in die Bybel geen sprake is nie.
Dit is in die lig hiervan nie vreemd dat sommige gelowiges wat in drome spesialiseer, oortuig is dat ons heeltemal ’n nuwe tyd in die heilsgeskiedenis ingegaan het, ’n tyd waarin God aan hulle nuwe openbarings gegee het. Want hierdie funksie van drome kry ons nog nie in die Bybel nie.
6.6 HUISSKOONMAAK EN CHRISTELIKE SKOLE
Daar is baie kleiner dingetjies wat voortvloei uit hierdie ingesteldheid van terug na die Ou Testament. Dis uit met feetjies, kaboutertjies en dwergies, met hekse, met Boeddha-beeldjies en nog baie ander goed. Teen die meeste van hierdie dinge is daar goeie argumente in te bring. Maar gooi ’n mens nie later die baba saam met die badwater uit nie? Ek weet feetjies, kaboutertjies en dwergies kan “toor”, en dis verkeerd vir ’n mens om te (probeer) toor. Maar is hulle “toor” regtig toor, die soort wat verkeerd is? Is dit nie speletjies nie, heerlike kinderpret nie? En hoe ver verskil dit van dagdrome? ’n Kind van omtrent tien jaar lê en droom hy kry ’n miljoen rand onder ’n klip. En wat kan hy nie alles koop nie. En wat kan hy nie alles doen nie. En waarheen kan hy nie oral reis nie. Na kammaland. En daar hang die lekkers soos perskes aan die bome! Hoe ver is dit van die feetjies se “toor” af? Moet “kammaland” se bootjie dan ook uit? Sou dit nie dalk juis goed kon wees dat kinders hierdie fee-verhale hoor en geniet, en dan terugkom in die gewone lewe en uitvind die lewe werk nie so nie? En die Boeddha-beeldjies? Ek hoor die gevaar is dat hierdie beeldjie jou huis onder ’n bose mag bring. Moet ek wens dit is waar? Dan is dit sekerlik ook van die Bybel waar. Dan kry ek net ’n paar honderd klein Nuwe Testamentjies en versteek hulle op die lughawe in Boeddhiste se bagasie, en hulle kom almal onder die mag van Jesus. Daar is erger verhale in die Bybel wat baie erger is as enige iets wat by huisskoonmaak betrokke is, wrede verhale van mans wat vrouens en kinders doodmaak, wrede strawwe om kinders wat hulle ouers vloek, met klippe dood te gooi. Maar ons leer ons kinders om sinvol, met onderskeiding, na hierdie Bybelverhale te kyk. Ons leer hulle dit het in ’n ander tyd gebeur, met ’n ander kultuur en ander waardes, dit gaan nie voort in Jesus se lewe nie.
Kan ’n mens nie maar sinvol, krities met hierdie “gevaarlike dinge” omgaan nie? Sê nou ek gebruik hierdie Boeddha-beeldjie om my herinner om vir hierdie mense te bid, en betrokke te raak by die sending onder hulle? Sê nou Rooikappie leer my kind om versigtig te wees? Maar dan die aspek van die bonatuurlike. •Feetjies en kaboutertjies moet uit omdat hulle kan toor. •En toor is bonatuurlik, dis net God wat bonatuurlike dinge kan doen. •Daarom is dit afgodery en verkeerd en gevaarlik.
Hoort God en toor bymekaar? Toor God? Is God en toor nie op totaal verskillende vlakke nie? Is daar enige verband tussen toor en Jesus se wonderwerke? Daar is mense wat voorgee dat hulle toor. Hulle gee ook sulke uitvoerings en doen dinge wat niemand kan verstaan nie. Maar hulle is besig met vermaak, met oëverblindery. As jy weet waar om te kyk, kry jy gewoonlik die geheim. Maar wat het dit te doen met Jesus se wonderwerke wat nie toeskouers vermaak het nie, maar mense gered en genees het? Wat het dit te doen met God wat alles uit niks geskep het, wat lig geskep en van die duisternis geskei het? Daar is ook mense wat skynbaar met die hulp van bose magte bonatuurlike dinge doen. En daar is mense wat sê dis nie altyd so maklik om hulle toordery van die wonders van God te onderskei nie. En dit is waarskynlik die waarheid, al het ek self nog nooit sulke dinge beleef nie. Maar moet ek die baba saam met die badwater uitgooi? Moet ek kinders ontneem van die rykdom van verbeelding wat hulle uit fee- en kabouterverhale kry? Is dit nie omtrent die maklikste van alle dinge in ons kinderopvoeding om vir hulle te verduidelik dat daar wêrelde van verskil is tussen bose magte se duiwelswerk en liewe heksie wat op’n besemstok ry nie? Besef ons watter rol verbeelding in die ontwikkeling van ’n kind se inisiatief speel?
Tuisonderrig En dan die tuisonderrig. Daar is sekerlik situasies waarin dit wonderlik is om dit te mag doen. Daar is mense wat eenvoudig te ver van die naaste skool af is. En daar sal ander situasies ook wees. Maar die beginsel? En raak dieselfde beginsel nie ook die Christelike skole nie? Wat doen ons? Haal ons nie ons kinders uit die hoofstroomsamelewing uit, en maak hulle groot in ’n groepie wat nie weerspieël wat in die wêreld aangaan waarin hulle eendag moet leef nie? Is dit nie deel van oorbeskerming, en dan ten koste van die kind se blootstelling aan die werklike wêreld nie? Gaan hulle in staat wees om die stampe en stote van die samelewing te hanteer as hulle nie daarmee grootgeword het nie? En is daar nie selfs veel meer op die spel nie? •Onderskat ons nie kinders as ’n evangelisasiemag nie? •Onderskat ons nie die vermoë van ons jong kinders wat die Here Jesus ken om standpunt in te neem en ander te beïnvloed nie? •Onderskat ons nie die vermoë van kleintjies wat Jesus ken en liefhet om dit met maatjies te deel en hulle lus te maak om Hom te ken nie? •Ontneem ons nie die kinders wat in openbare skole sonder Hom grootword die geleentheid om spontaan van Hom te hoor nie? •Ontneem ons nie ons eie kinders die heerlike voorreg om ander na Jesus te lei nie? •Stroop ons nie ons openbare skole van ’n eg Christelike element nie? •Is ons nie bang Christene in plaas van dapper Christene nie? •En maak ons nie ons kinders só groot nie? •Glo ons meer aan die krag van die duiwel om ons kinders te verlei, as aan die krag van die Gees om hulle nie net weerbaar te maak nie, maar aanvalsoldate vir Jesus?
6.7 BINDINGE
Sommige is oortuig dat ’n mens “bindinge” kan hê. Hierdie bindinge moet dan gebreek word. ’n Mens kan gebind wees deur dinge waarby jy self betrokke was soos dobbel of waarsêery. Maar ’n mens kan ook bindinge erf, bindinge wat jou voorouers gehad het en wat jou dan ook bind. Een van hulle kon byvoorbeeld ’n vrymesselaar gewees het. Dit veroorsaak ’n binding, en jy kan dit erf. Verder word daar dan maniere voorgeskryf hoe hierdie bindinge gebreek kan word. En dit raak gelowiges en ongelowiges. Daar word gewoonlik verwys na die wet, die tweede gebod. Eksodus 20:5: “Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat.”
Ons lees hier iets van die oordeel van die Here. Hy straf die ouers se sonde ook aan die kinders, selfs tot die derde en vierde geslag. Hieruit word dan afgelei dat ouers se sonde bindinge op hulle nageslag kan lê. Maar hier is nie van bindinge sprake nie. Hier is sprake van toerekening, en deel van hierdie toerekening kan sekerlik straf wees. Dit is ’n saak op sy eie waarop ’n mens sou kon ingaan. Maar dan moet ’n mens daarop let dat hier staan: “tot in die derde en vierde geslag van dié wat my haat”. Hier is nie sprake van kinders wat die Here dien, maar ongelowige voorouers gehad het nie. Verder is daar nogal ’n sterk hoofstuk in Esegiël 18 oor die feit dat kinders nie gestraf word oor hulle ouers se sonde nie. Die kwessie van bindinge moet op ’n ander vlak bespreek word – op die vlak van die mag van die sonde. Veral Jesus en Paulus is baie sterk oor die mag van die sonde (Joh 8:34-38; Rom 6:17-20). Daar is bose magte in die lug waarteen ons sterk weerstand moet bied (Ef 6:10-17). Hierdie bose magte sluit die sonde
in. Sonde is meer as verkeerde dade wat ons doen en waarvoor ons vergifnis moet ontvang. Sonde is ook ’n mag wat ons bind en waarvan ons bevry moet word. Hierdie bevryding is deel van ons verlossing, maar dis duidelik dat daar ook gelowiges is wat soms deur ’n bepaalde mag gebind word. Ons is goed bewus van verdowingsmiddels wat ook gelowiges kan vasvang. Maar ons is nie so bewus van jaloesie en hoogmoed en gierigheid en selfsug nie, maar daar is dalk net soveel lewens wat daardeur verwoes word as deur verdowingsmiddels. ’n Mens het soms die indruk dat iets soos selfsug nie meer as ’n lelike lewenshouding is waarvan ’n mens bewus kan word en deur die krag van die Gees kan oorwin nie. Maar daar is sekerlik mense wat deur so iets heeltemal vasgevang kan word, en regtig deur die Here vrygemaak moet word. En dit is soms regtig ’n proses voor ’n mens hierdie bevryding beleef. Maar dit alles is nog nie dieselfde as hierdie spesifieke leer oor bindinge nie. In hierdie leer gaan dit oor baie meer, oor presies wat dié bindinge is, hoe dit werk, waardeur dit veroorsaak word, hoe ’n mens sulke bindinge kan herken of identifiseer, watter metodes gebruik moet word om daarvan bevry te word, alles dinge wat ek nie só in die Bybel kry nie, en vermoed dis bietjie te veel.
7
DIE CHRISTELIKE DOOP
7.1 STELLINGS OOR ABRAHAM EN OOR DIE DOOP
Dis opvallend dat die doop ook dikwels ter sprake kom as mense wil terug na die Ou Testament. Dit lyk my nie of dit regtig pas nie, want daar was nie ’n doop in die Ou Testament nie. Dit sou eerder pas om die besnydenis te oorweeg. Ons het alreeds daarna gekyk (6.3). Maar dit neem nie die feit weg dat sommige wat wil terug na die Ou Testament ook met die doop probleme ontwikkel nie. Die opskrif is “Die Christelike doop” omdat daar ook ander dope in die tyd van die Nuwe Testament was soos die doop van Johannes die Doper, die Joodse proseliete-doop en “die doop vir die dooies” (1 Kor 15:29). Maar wanneer ons normaalweg praat, praat ons maar net van “die doop”, maar ons bedoel eintlik die Christelike doop. Gewoonlik begin mense huiwer oor die kinderdoop, maar ’n mens kan nie die kinderdoop behandel sonder om na die doop as sodanig te kyk nie. •Enersyds kan ons nie met die kinderdoop voortgaan as dit nie inpas in die boodskap oor die doop in die Nuwe Testament nie. •Ons kan ook nie ander beginsels vir die kinderdoop aanvaar as vir die doop as sodanig nie. •En andersyds lyk dit my ’n mens verstaan eers regtig die kinderdoop as jy die doop as sodanig verstaan. Anders het mense vreemde beskouings oor die kinderdoop.
Kom ons kyk net eers in ’n paar stellings kortliks na die doop en die rol wat Abraham daarin speel. En dan kan hierdie stellings agterna verduidelik word.
Abraham
1As ons verstaan wie Abraham is, verstaan ons die doop. 2Abraham is die vader van alle gelowiges in die Ou Testament én in die Nuwe Testament. 3Abraham is dié voorbeeld van hoe ’n mens gered word. 4Jesus het deur die kruis die verbond met Abraham ook vir ons, wat heidene is, oopgemaak. 5Wanneer die Here ons seën, seën Hy ons saam met Abraham, gee Hy ons deel aan die seën wat Hy vir Abraham gegee het. 6Die doop lyf ons in die verbond in wat God met Abraham gemaak het. 7Die ou verbond wat afgeskaf is, is nie die verbond met Abraham nie, dis die verbond van die wet by Sinai.
Hierteenoor ’n paar stellings wat vir my verkeerd lyk. 8Dit is nie so dat die Abrahamverbond die ou verbond is nie. 9Dit is dus ook nie so dat die Abrahamverbond ooit afgeskaf is nie. 10Dit is nie so dat ’n kerk moet kies tussen kinderdoop en grootdoop nie. Elke kerk behoort albei te bedien. Die Gereformeerde kerke doen dit in elk geval. 11Dit is nie so dat ’n kerk moet kies tussen besprinkeling en onderdompeling nie. Elke kerk behoort albei te gebruik.
Die doop Nou ’n paar stellings oor die doop. 12Die doop red ’n mens nie. 13Dit gaan in die doop oor dit wat God doen, nie oor dit wat die mens doen nie.
14Dit is ’n oorvereenvoudiging om te sê die doop het in die plek van die besnydenis gekom. 15Maar daar is verband tussen die betekenis van die doop en die besnydenis. 16Dit wat die Christelike doop die Christelike doop maak, in onderskeid van ander vorms van doop, soos Johannes die Doper se doop of die Jode se proseliete-doop, is nie die water of die manier van doop nie, maar die doopformule: “Ek doop jou in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”. 17Die Christelike doop behoort nie meer as een keer bedien te word nie. Die eenmaligheid hang direk saam met sy betekenis.
7.2 DIE BETEKENIS VAN ABRAHAM
Uit stellings 1-7 is dit duidelik dat Abraham ’n besondere plek in ons geloof inneem. In Romeine 4 soek Paulus ’n voorbeeld van hoe ’n mens gered word. Hy kies nie een van sy eie dissipels nie, hy kies vir Abraham: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek” (Rom 4:3). Hoe word ons dan gered? Deur in God te glo, of soos ons dit in die Nuwe Testament kry: Deur op Jesus as ons Verlosser te vertrou. Maar Abraham is nie net ons voorbeeld van redding nie, hy is ook ons geestelike vader (Rom 4:16-17). Deur die geloof is ons sy kinders (Gal 3:7) en deur die doop het ons sy nakomelinge geword (Gal 3:27,29). Kinders en nakomelinge erf van hul vader. Wat erf ons van hom? Ons word “saam met die gelowige Abraham geseën” (Gal 3:9). Dis ’n opvallende uitspraak. Hoe kan ons saam met Abraham geseën word? Hy is lankal geseën en net so lank al dood. Maar onthou die “saam met”-beginsel by Paulus. Deur die doop word ons só met Christus verenig dat ons eintlik saam met Hom gekruisig is en saam met Hom opgestaan het (Rom 6:2-6). Ons kry dus ’n aandeel aan sy kruis en sy opstanding. As ons dan deur die geloof en die doop nakomelinge van Abraham word (Gal 3:27,29), word ons saam met hom geseën, dit beteken ons kry deel aan die seën wat God aan Hom gegee het toe Hy beloof het al die nasies van die aarde sal in Abraham geseën wees. Dit beteken hulle sal deel in die seën wat Hy aan Abraham gegee het (Gen 12:3; 18:18; 22:18; 24:1). Ek verstaan dit só dat God eintlik een groot voorraad seën aan Abraham gegee het. Dit is sy volle seën vir die hele wêreld en vir alle tye. Deur die geloof kry ons deel aan daardie seën, of miskien liewer: skakel ons in daardie seën in. Ons word “saam met die gelowige Abraham geseën” (Gal 3:9). Hierdie seën van Abraham is aan die kruis oopgebreek vir die heidene, dis vir ons wat nie Jode is nie (Gal 3:14). In die lig hiervan is dit natuurlik vreemd dat mense kan dink die verbond met Abraham is die ou verbond wat afgeskaf is. Die verbond met Abraham is die
genadeverbond, die geloofsverbond, die verbond wat self ook die evangelie is: Glo en jy word gered. As hierdie verbond afgeskaf is, hoe word ons dan gered? Die verbond wat afgeskaf is, is die wetsverbond wat by Sinai gesluit is (Jer 31:31 ev), die verbond wat 430 jaar ná die Abrahamverbond gesluit is.
7.3 DIE BETEKENIS VAN DIE DOOP
Ons word deur die doop met Christus verenig (Gal 3:26) en omdat Hy dié Nakomeling van Abraham is (Gal 3:16), word ons dan ook, saam met Hom, nakomelinge van Abraham. Die doop is dus wesenlik deel van die verbond met Abraham. Die doop lyf die dopelinge in die Abrahamverbond in. Dit beteken dat die Christelike doop die verbondsdoop is. Daar is groepe wat spesifiek die kinderdoop die verbondsdoop noem, en dan allerhande ander woorde vir die grootdoop gebruik soos belydenisdoop. Maar dit is verkeerd. Daar is nie twee vorms van die Christelike doop, die een die verbondsdoop en die ander een iets anders soos ’n belydenisdoop nie. Die Christelike doop as sodanig is die verbondsdoop, in watter vorm dit ook al bedien word. Die doop as sodanig lyf ons in die Abrahamverbond in, of ons klein of groot gedoop is. Dis nou indien ’n mens die kinderdoop naas die grootdoop aanvaar. Doen jy dit nie, en verwerp jy dus die kinderdoop, is dit nog steeds waar dat die doop (in die vorm van die grootdoop) ons in die Abrahamverbond inlyf (Gal 3:27, 29) en dus die verbondsdoop genoem kan word. Maar nou het ons ’n belangrike beginsel aanvaar. Ons het dit nie besef nie omdat ons formulerings sleg was. •Dis nie die doop wat ons in die Abrahamverbond inlyf nie.
Dis God wat ons deur die doop in die Abrahamverbond inlyf. Die beginsel is dan dat die betekenis van die doop met God se werk in verband staan, nie met ons werk nie. Ons kan nie onsself in die verbond inlyf nie; ons kan nie onsself saam met Abraham seën nie; ons kan nie onsself kinders van Abraham en nakomelinge van Abraham maak nie; ons kan nie onsself met Christus verenig nie. God doen dit, en Hy doen dit deur die doop en die geloof.
In die lig hiervan is dit nie vreemd dat al die betekenisse van die doop verband hou met God se werk in ons, en nie met ons werk nie: •God verenig ons deur die doop met Christus sodat ons deel kry aan sy kruisiging, sterwe, begrafnis en opwekking (Rom 6). Ons kan dit nie self doen nie. •God gee ons deur die doop vergifnis en reiniging van sonde (Hand 2:38; 22:16; 1 Kor 6:11). Ons kan nie self nie. •God gee ons deur die doop die Heilige Gees en die weergeboorte (Tit 3:5; ongelukkig vreemd vertaal in die 1983-vertaling). Ons kan nie self nie. •God neem ons deur die doop op in die liggaam van Christus (1 Kor 12:13; net so vreemd vertaal in die 1983-vertaling. Lees die 1953-vertaling en NLV). Ons kan nie self nie.
Die Christelike doop kan dus nie ’n geloofsdoop of ’n belydenisdoop genoem word nie, omdat dit nie my geloof of my belydenis is wat die betekenis aan die doop gee nie, maar God self. Natuurlik moet mense wat van buite die geloofsgemeenskap kom, eers self glo en hulle geloof bely voor hulle gedoop word. Net so moes ook Abraham eers self glo voor hy besny is. Maar Isak wat in die verbond gebore is omdat Abraham in God geglo het, is éérs besny en moes agterna self glo. My geloof en my belydenis is my onontbeerlike antwoord op die werk van God in my doop.
Red die doop my? Nee. Maar indien God al hierdie gawes in my doop vir my gee, hoe is dit dan dat die doop my nie red nie? Om presies dieselfde rede waarom die kruis my nie red nie. Die doop en die kruis val presies saam.
7.4 DOOP EN KRUIS
Aan die kruis het God deur Jesus die wêreld versoen. Dis goed om te kyk hoe radikaal Paulus dit formuleer. “Die boodskap van die versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie” (2 Kor 5:19). Dit kan tog nie iets anders beteken nie as dat God vandag vir geen enkele mens op die hele aarde een sonde toereken nie, wat hy of sy ook al gedoen het. Beteken dit dan dat ons net vir alle mense moet laat weet dat hulle versoen en gered is, en hulle nie verder daaroor hoef te bekommer nie? Almal is gered, want God het almal versoen? Nee. Die volgende vers lui: “Ons smeek julle namens Christus: “Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!” (5:20). Wat beteken dit? God het gegee, maar ons moet dit aanneem. Hy het ons met Homself versoen, maar ons moet hierdie versoening eers aanneem voor dit vir ons geld. Dis hoe die verbond werk, want soos alle verbonde het die genadeverbond ook twee kante. Dis mos presies hoe die doop ook werk. •In watter boek in die Nuwe Testament lees ons hoe mense gedoop word? Handelinge. •In watter boeke lees ons wat die doop beteken? Die Briewe. •Maar die Briewe is ná Handelinge geskryf. Dit is geskryf aan gemeentes, mense wat klaar gedoop is. Dit beteken dat mense nie vooraf oor die betekenis van hulle doop ingelig is nie, maar eers gedoop is (Handelinge) en toe later onderrig is (die Briewe).
Indien dit in die doop gegaan het oor wat ek doen, was dit tog heeltemal verkeerd. Dan moes die apostels eers lang onderhoude gevoer het met mense wat gedoop wil word, en hulle breedvoerig oor die betekenis van die doop ingelig het sodat hulle alles kan verstaan wanneer hulle gedoop word. Maar nêrens in Handelinge is sprake van deeglike dooponderrig nie. Paulus doop die heidense tronkbewaarder, wat niks van die evangelie of die doop geweet het nie, nog dieselfde nag, ’n man wat net gehoor het Jesus red jou as jy glo. Wanneer moet hy nou leer wat sy doop beteken? Hy sal dit leer as hy as lid van die gemeente die Briewe begin lees. Dis alles normaal, soos dit hoort, want God gee in die doop, en ek moet agterna leer en aanneem wat Hy gegee het, en hoe om dit toe te eien en daaruit te leef. Maar dan pas die kinderdoop mos presies in die struktuur van die evangelie, sowel van die kruis as van die doop. •Aan die kruis het God ons versoen, en wanneer ons dit nou hoor, moet ons dit in die geloof aanvaar. •Aan die kruis het God ook die baba versoen, en wanneer die baba dit hoor, moet hy of sy dit in die geloof aanvaar. •In die doop bevestig God vir die dopeling persoonlik wat Hy aan die kruis gedoen het, en die dopeling moet dit in die geloof aanvaar. •En in die doop bevestig God ook aan die baba wat Hy aan die kruis gedoen het, en die baba moet dit agterna in die geloof aanvaar.
Die kinderdoop pas dus nie net in die genadeverbond wat God met Abraham gesluit het en waarin God ons deur die doop opneem nie. Dit pas ook in die manier waarop die doop in die vroeë kerk bedien is: Eers gedoop, daarna onderrig. Dit beteken daar is geen beter manier om die Ou Testament tot sy reg te laat kom nie as om die genadeverbond te aanvaar wat God met Abraham gesluit het. Maar
dit beteken nie “terug” na die Ou Testament nie, maar vorentoe saam met Abraham in God se toekoms in.
7.5 LOS OPMERKINGS
Daar is ’n paar stellings aan die begin van die hoofstuk waaraan ons nog nie genoeg aandag gegee het nie. Daar is twee groepe kerke: •Die een groep doop net mense wat self glo, en verwerp die kinderdoop. •Die ander groep doop ook mense wat self glo, maar dan ook hulle kinders.
Daar is geen kerk wat die doop van gelowiges verwerp nie. Dit sou onsinnig wees. Dit werk net dieselfde met onderdompeling en besprinkeling. •Die een groep kerke doop net deur onderdompeling, en verwerp besprinkeling. •Die ander groep doop deur besprinkeling of onderdompeling.
Maar daar is mense wat nie daarvan bewus is nie, wat oortuig is hierdie groep kerke doop net deur besprinkeling. Gelukkig sê die Gereformeerde doopsformulier duidelik dat die doop deur onderdompeling of besprinkeling bedien kan word. ’n Kerk behoort mense ’n keuse te gee tussen die twee metodes omdat dit nie in die Bybel gaan oor die manier van doop nie, maar oor die betekenis van die doop. Die Christelike doop behoort net een keer aan ’n persoon bedien te word. Die “een keer” hou direk verband met die betekenis van die doop. Deur die doop gee God ons deel aan die heil. Ons moet daarop reageer en dit aanvaar. God gee ons
nie oor en oor deel aan die heil nie, net soos Christus nie oor en oor aan die kruis sterf nie. Die nagmaal is die sakrament wat ons oor en oor gebruik en ook moet gebruik, omdat dit verband hou met die voortdurende voeding en versterking van ons nuwe lewe. Daarom moet dit herhaal word. Dit is ’n oorvereenvoudiging om te sê die doop het in die plek van die besnydenis gekom. Die betekenis van die doop is veel ryker as dié van die besnydenis. En vir ’n tyd lank het die doop en die besnydenis gelyktydig voorgekom, minstens in die gemeente in Jerusalem (Hand 21:21). Maar daar is wel direkte verband tussen die betekenis van die doop en die besnydenis. Die besnydenis het ’n diep geestelike betekenis gehad. Ons lees van die besnydenis van die hart, lippe en ore (Lev 26:41; Deut 10:16; 30:6; Jer 4:4; 9:25-26; Eseg 44:7,9 – die 1953-vertaling), dit beteken die vernuwing van ’n mens se lewe. Deur die besnydenis is mense opgeneem in die Abrahamverbond waarin hulle hierdie nuwe lewe moes leef. En die betekenis van hulle besnydenis was juis die vernuwing van hulle lewe. Die doop het dieselfde betekenis. Ons word deur die doop opgeneem in die verbond met Abraham om as gedooptes ’n nuwe lewe te lei (Gal 3:27-29). En die betekenis van die doop is juis die vernuwing van ons lewe. Daar is dus verband tussen die betekenis van die doop en die betekenis van die besnydenis Maar die doop het ’n veel ryker betekenis as die besnydenis. Die doop het nie net verband met die besnydenis nie, maar ook met die groot versoendag, die dag wat die offer gebring is vir die sonde van die volk. Deur die doop gee God ons ook vergifnis en reiniging van sonde. Maar daar is nóg meer. Deur die doop word ons só met Christus verenig dat ons deel kry aan sy kruisiging, sterwe, begrafnis en opwekking (Rom 6). Dit is iets nuuts in die Nuwe Testament wat nog nie in die Ou Testament voorgekom het nie, sodat hierdie betekenis nie kan aansluit by enigiets in die Ou Testament soos die besnydenis en die versoendag nie. Dit is eenvoudig die plus van die doop bo enigiets in die Ou Testament. En miskien is juis dít die wonderlikste betekenis van die doop. Wat maak die Christelike doop uniek in onderskeid van ander dope soos Johannes die Doper se doop of die Jode se proseliete-doop? Twee dinge: die
betekenis van die doop, en spesifiek die doopformule. Allereers die betekenis van die doop. Ons het alreeds hierna gekyk, en die ryk betekenis van die Christelike doop opgesom: vereniging met Christus, inlywing in die genadeverbond, vergifnis en reiniging van sonde, en nog meer. Niks hiervan is ter sprake in die doop van Johannes die Doper nie. Sy doop het net verwys na wat die mens doen. Dit was ’n bekeringsdoop. Hy het mense gedoop as deel van hulle getuienis dat hulle hul bekeer het. Sy doop kon immers nog nie die dopeling aan Christus se sterwe en opstanding deel gee nie, omdat Hy toe nog nie gesterf het en opgestaan het nie. Die doopformule bevestig die uniekheid van die Christelike doop. Geen ander doop is gedoen in “die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” nie. Die formule beteken dat God se Naam oor die dopeling uitgeroep word, dat die dopeling onder God se gesag kom, die gesag van die genadige God. Dit beteken dat die Naam uniek is aan die Christelike doop, dat ’n doop wat nie bedien is in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees nie, nie die Christelike doop is nie, ongeag of dit met water of op ’n bepaalde manier gedoen is. Die verskil tussen Johannes se doop en die Christelike doop is dus die verskil tussen dit wat die mens doen en dit wat God doen. Ons gaan in die Christelike doop dus nie terug na die Ou Testament nie, ons gaan vanuit die Ou Testament en die Nuwe Testament saam met Abraham vorentoe in God se toekoms in.
8
DIE WEDERKOMS NOU?
8.1 DIE WEDERKOMS IS NABY
Saam met die doop is dit een van ’n paar sake wat nie regtig so duidelik met “terug na die Ou Testament” verband hoef te hou nie. Die besondere beklemtoning van die mense wat wil teruggaan na die Ou Testament is ook nie dat die wederkoms naby is nie, ook nie dat dit nou naby is nie, maar dat dit juis nou naby is in teenstelling met enige vroeëre tyd. Wat is die verskil? ’n Mens moet mooi kyk. Volgens die Nuwe Testament is die wederkoms van Jesus naby. Volgens hierdie mense is die wederkoms van Jesus juis nou naby. Die Nuwe Testament het ’n baie sterk boodskap dat die wederkoms van Jesus naby is. En dit beteken dan nie dat dit nou eers naby is, in 2014 nie. Dit beteken dat dit toe al naby was. En dit is iets anders as dat dit juis nou naby is. Kom ons kyk eers na die Nuwe Testament, en daarna na hierdie standpunt. Die Nuwe Testament het ’n baie sterk boodskap dat die wederkoms van Jesus naby is. Eintlik moet ’n mens sê dat die wederkoms toe al naby was, want die Nuwe Testament is in die eerste eeu na Christus geskryf. Toe het skrywer na skrywer gesê: Die wederkoms van Jesus is naby, wat toe beteken het Jesus se koms was in die eerste eeu naby. Ons kry hierdie nabyheid-boodskap in byna elke boek. En lees mooi wat daar staan. Dit gaan elke keer oor die tyd waarin die boek geskryf is, nie oor ’n toekomstige tyd ver die toekoms nie (Matt 24:33; Luk 21:28,30; Mark 3:29; Rom 13:12; 16:20; 1 Kor 7:29; Fil 4:5; 1 Tess 4:17, 5:10; Heb 10:37; Jak 5:8-9; 1 Pet 4:7; Op 1:1,3; 3:11; 22:7,12,22). Dit beteken dat die vroeë Christene die Here Jesus dringend verwag het. ’n Mens hoor hierdie spanning keer op keer. Jesus en die apostels sê nie dat die mense wat eendag in die verre toekoms sal leef, dan sekere dinge sal beleef en dat hulle dan moet weet dat die einde dan
naby is nie. Jesus kyk sy dissipels in die oë met die woorde: Julle sal hoor van ... Hulle sal julle oorlewer ... Wanneer julle sien ... As iemand vir julle sê ... So moet julle weet ... (Matt 24:6,9,15,23,33). Die wederkoms was in daardie tyd alreeds naby. Dis duidelik dat Paulus gereken het met die moontlikheid dat die Here Jesus al tydens sy leeftyd sou kon kom. As hy oor die wederkoms skryf, lees ons: “dan sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet” (1 Tess 4:17). Baie van ons ken die uitdrukkings oor die nabye wederkoms uit ons kop: Dit is nie meer lank nie, die regter staan al voor die deur (Jak 5:8-9), die tyd is min, dit is die einde van die tye (1Kor 7:29; 10:11), die tyd is naby, die tyd is voor die deur (Matt 24:33; Mark 13:29), die nag is byna verby, dit is amper dag (Rom 13:12), dit is die laaste uur (1 Joh 2:18). Niemand kan dus twyfel oor die dringendheid van die boodskap oor Jesus se wederkoms nie. Die vroeë Christene het by wyse van spreke elke oggend met teleurstelling hulle oë oopgemaak en gesien hulle is nog op die ou aarde. Maar dít is nie die saak van die mense wat glo die wederkoms is juis nou naby nie. Hulle sien die saak totaal anders as wat ons dit in die Nuwe Testament kry. Hulle punt is nie dié van die Nuwe Testament dat die wederkoms van Jesus in die begin al naby was, en dat ons nou moet uitmaak wat dit vandag vir ons beteken nie. Hulle is oortuig dat die Nuwe Testament leer dat die wederkoms van Jesus juis nou in hierdie tyd moet plaasvind, dat alle tekens al van toe af in die rigting wys dat dit juis nou, vir die eerste keer, naby is, dat Jesus juis nou moet kom. Dit is ’n oortuiging wat nou al vir ’n geruime tyd voorkom. Die afgelope twee jaar is selfs bepaalde datums aangegee. Mense maak aanspraak op spesiale openbarings of nuwe insigte in die Bybel. En dit lei daartoe dat sommige regtig nie verder voorsiening maak vir hulle lewensonderhoud nie. Hoeveel ellende dan agterna daaruit voortspruit as die Here nog nie gekom het nie, word natuurlik nooit aan die groot klok gehang nie. Die probleem is nie dat hierdie mense glo die wederkoms van Jesus is naby nie. Dit het almal in die Nuwe Testament al geglo. Die probleem is dat, anders as in die Nuwe Testament, die datum vasgemaak word. •Die Nuwe Testament sê: Enige tyd.
•Hulle sê: Nou.
Nou die vraag wat voor ons lê. In die Nuwe Testament klink die boodskap luid op: Die koms van die Here is naby. Dit was byna 2 000 jaar gelede. En intussen het die Here Jesus nog nie gekom nie. Hoe moet ons dit nou verstaan? Daar is gelowiges wat presies die teenoorgestelde standpunt as die “juis noustandpunt” het: Die vroeë Christene was verkeerd. Die tyd het hulle verkeerd bewys. Ons kan nie ná byna 2 000 jaar nog glo die Here sal weer kom nie. Maar hulle is ook nie die eerste wat so voel nie. Alreeds in Petrus se tyd was daar spotters wat gesê het dit duur nou te lank (2 Pet 3:2-4). Petrus se reaksie is interessant. “Vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag” (2 Pet 3:8). Daar is mense wat vreemde dinge met hierdie woorde aanvang. Sommige meen dit beteken dat die aarde net ses duisend jaar sal bestaan omdat dit in ses dae geskep is. Hier staan immers een dag is soos duisend jaar. En dan bereken hulle dat die aarde nou net omtrent ses duisend jaar oud is, dat die skepping omtrent vier duisend jaar voor Christus plaasgevind het, en dat ons nou twee duisend jaar ná Christus is. Dit sou dan “bewys” dat die wederkoms van Jesus juis nou moet plaasvind.
8.2 DIE LAASTE DAE
Maar wanneer kom die eindtyd dan, die laaste dae? Daar is nie een plek in die Nuwe Testament waar “die laaste dae” na die toekoms verwys nie. Die laaste dae, die eindtyd, was die tyd waarin die vroeë Christene geleef het, trouens, Jesus is in die laaste dae gebore, die Gees is in die laaste dae uitgestort, en Johannes se gemeente het in die laaste dae geleef, ja, selfs in die laaste uur! (Heb 1:1-2; Hand 2:17; 1 Kor 10:11; Heb 9:26; 1 Joh 2:18.) Hierdie eindtyd het eenvoudig onverwags langer geword. Ons leef nog in dieselfde eindtyd. Daar is nie ’n aparte eindtyd wat nog moet kom, of nou eers gekom het nie. Ons leef dus in dieselfde tyd as die vroeë Christene. Dit is onverwags dat Jesus nog nie weer gekom het nie. Dis waarskynlik net God se geduld wat nog mense die kans wil gee om gered te word (2 Pet 3:8-9). Maar dit beteken dat die Here Jesus van daardie tyd af enige oomblik kon kom, en dat ons, net soos hulle, in die gespanne verwagting moet leef dat sy koms altyd naby is. En op sy beurt beteken dit dat enige voorspelling dat die Here op so of so ’n tyd sal kom, altyd verkeerd is. Om twee redes. Eerstens omdat ons nie weet wanneer Hy kom nie (Matt 24:36,42,44,50; 25:13). En tweedens omdat enige voorspelling van maande of selfs net weke die toekoms in, nie met die Nuwe Testament rekening hou dat Hy môre al kan kom nie. Hy kan enige oomblik kom. Maar Hy kan ook eers later kom. Hoe lank is sy geduld? Maar wat dan van die tekens van die tye, die tekens dat sy wederkoms naby is? Is dit dan nie vir ons ’n aanduiding van wanneer sy koms naby sal wees nie?
8.3 DIE TEKENS VAN DIE TYE
Die tekens van die tye is die tekens van die nabye wederkoms van Christus. Sowel Jesus as die skrywers van die Nuwe Testament noem ’n aantal gebeurtenisse wat sal dien as tekens dat sy koms naby is. Maar let mooi op na hierdie formulering: Tekens dat sy koms naby is, nie tekens wanneer sy koms naby sal wees nie. Wat beteken dit? Moes die tekens die mense eendag in die verre toekoms help om te bereken wanneer sy koms naby sal wees, of moes die tekens die eerste Christene daagliks daaraan herinner dat sy koms (alreeds in hulle tyd) naby was? Kom ons kyk.
8.3.1 ALGEMENE TEKENS
Daar is algemene tekens en besondere tekens. Die algemene tekens is tekens soos oorloë, aardbewings, hongersnode, verdrukking en geloofsafval (Matt 24:3 ev). Maar daar is ook meer spesifieke tekens soos die Antichris, die Jode, en die heiden-sending. Die algemene tekens is dinge wat deurlopend in elke geslag gebeur: oorloë, aardbewings, hongersnode, verdrukking en geloofsafval. Hierdie tekens sou dus moeilik kon dien as aanduiding wanneer sy koms naby sou wees. Elke geslag beleef hierdie tekens. Dit is bedoel as tekens wat ons voortdurend daaraan herinner dat Jesus se koms naby is. Hoewel hierdie tekens altyd voorkom, is daar ’n taamlik algemene oortuiging onder baie Christene dat hierdie tekens kort voor die wederkoms intensiewer sal word. Daaraan sou ons dan weet dat sy koms juis dan naby sal wees. Maar Jesus sê nooit so iets soos dat hierdie dinge erger gaan word nie. En indien Hy dit dalk wel so bedoel het, wanneer sal dit erg genoeg wees? Hoe erg moet hulle dan word voordat ons daaruit moet aflei dat die koms nou naby is? Dit lyk dus beter om Jesus se woorde net so te aanvaar soos dit daar staan: “As julle (sy dissipels) ...” Dit was bedoel as herinnering aan sy dissipels (en daarom ook aan elke geslag na hulle) dat sy koms naby is. Dit was nie bedoel as hulp om te bereken wanneer sy koms naby sou wees nie. Immers: “Om dieselfde rede moet julle ook elke oomblik gereed wees omdat die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie” (Matt 24:44). Maar wat dan van die spesifieke tekens: die Antichris, die Jode, en die heidensending? Sou hierdie tekens vir ’n mens ’n aanduiding kon gee van wanneer Christus se koms naby sal wees? Die vraag self is natuurlik in terme van die Nuwe Testament klaar ’n vreemde vraag. As Christus se koms al in die tyd van die Nuwe Testament naby was, is dit dan sinvol dat daar sekere tekens is om te help bereken wanneer dit naby sal wees? Maar kom ons kyk een vir een na hierdie tekens.
Ons sal sien dat hierdie tekens almal in die lewe van die vroeë Christene vervul is: •Die evangelie is aan al die nasies verkondig (Rom 16:26; Kol 1:6,23; 2 Tim 4:17). •Die Antichris het reeds in baie gestaltes verskyn (1 Joh 2:18,22; 4:1-3; 2 Joh :7). •Paulus was oortuig dat die Jode se verharding sal voortduur en net dié wat jaloers gemaak word deur die heidene se bekering, gered sal word (Romeine 11).
8.3.2 DIE ANTICHRIS
“Antichris” is ’n Griekse woord wat in die Bybel net in die eerste en die tweede brief van Johannes voorkom. Dit verwys na ’n figuur in die eindtyd wat radikaal teenoor Christus (anti-Christus) staan en die gelowiges vervolg. Volgens die Briewe van Johannes was daar alreeds in sy tyd baie “antichriste” of misleiers en vyande van Christus wat die gelowiges vervolg het (1 Joh 2:18-25; 4:1-3; 2 Joh :7-9). Die meeste Christene stem saam dat daar wel ook op ander plekke in die Bybel van hierdie figuur sprake is, onder andere 2 Tessalonisense 2:3-12 en Openbaring 13. Sommige mense meen egter dat die antichriste waarvan Johannes in sy Briewe skryf, maar net voorlopers was van die eintlike Antichris wat nog moet kom. Hierdie Antichris sal dan ’n politieke wêreldheerser wees wat die mense stelselmatig en vreeslik sal vervolg in wat bekend staan as die groot verdrukking wat sewe jaar lank sal duur. Sommige meen die Christene sal dit nie beleef nie, maar ander meen hulle sal minstens vir die helfte van die tyd ook vervolg word. Dit is egter goed om noukeuriger na hierdie saak te kyk. Dit wat Johannes uitdruklik skryf, maak dit onmoontlik om in hierdie antichriste maar net voorlopers van die eintlike Antichris te sien. Johannes skryf dat dit “die laaste uur” is. Dit is dus nie haalbaar dat hy van voorlopers sal skryf nie. As hy van die laaste uur skryf, sal hy tog seker oor die eintlike Antichris skryf. En dan herhaal hy ook nog dat die feit dat daar reeds in sy tyd baie antichriste is, bevestig dat hulle in die laaste uur leef. Dan kan hierdie anti-christe mos nie voorlopers wees nie. Die feit dat hy van antichriste (meervoud) praat, is nie vreemd nie. Ons weet dat daar verskillende prentjies van die Antichris in die Nuwe Testament is: ’n godsdienstige leier (2 Tess 2), ’n politieke leier (Op 13), en mense (meervoud) wat in die gemeente was maar dan die gemeente verlaat het (1 Joh 2:19 ev). Verderaan in hierdie deel skryf Johannes nog meer oor die Anti-chris. En dan blyk dit dat dit juis om meer as een persoon gaan, want elkeen wat nie bely dat Jesus werklik die Christus (Messias) is nie, is ’n Antichris (2:22 ev).
Die Antichris het dus alreeds in Johannes se tyd in baie verskillende vorms en persone gekom. Dit kom ooreen met die gedagte dat die eindtyd alreeds met Jesus se aardse optrede aangebreek het en dat sy wederkoms al in die tyd van die Nuwe Testament naby was. Natuurlik het die Antichris sedertdien al weer in baie ander vorms en persone verskyn. Hy word dan ook onder verskillende vorms voorgestel in die Nuwe Testament: As ’n godsdiensleier (2 Tess 2) en as ’n politieke leier (Op 13). Ons het hom in die loop van die geskiedenis in al hierdie gestaltes gesien. En natuurlik kan dit nog weer gebeur. Maar elke nuwe verskyning van so ’n figuur bevestig net dat Christus se koms naby is. Die tekens van die tye was nooit gegee om Christene in staat te stel om te bereken wanneer Christus se koms naby sou wees nie, eenvoudig omdat sy koms van die begin af naby was. Dit was gegee om hulle voortdurend daaraan te herinner dat sy koms naby is. Omdat hulle baie gely het, was dit vir hulle ’n troos. En vir die ongelowiges ’n waarskuwing.
8.3.3 DIE HEIDEN-SENDING
Die evangelie moes eers aan alle mense verkondig word voor die Here sal kom. Jesus het self ’n duidelike uitspraak: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom” (Matt 24:13). Beteken dit dat die Here dus nie nou al kan kom nie, trouens dat sy koms selfs nie eens naby kan wees nie? Immers, daar is baie mense, selfs volke wat nog nie die evangelie gehoor het nie. Maar pas dit regtig in by die prentjie van die Nuwe Testament? Sy koms was dan al in die tyd van die Nuwe Testament naby. Wat het Jesus bedoel? Dis interessant om Paulus se briewe hieroor te lees. •In Romeine 16:26 skryf Paulus van die evangelie wat “aan alle nasies bekend gemaak is”. •In Kolossense 1:6 skryf hy van die evangelie “wat in die hele wêreld vrug voortbring”. •In Kolossense 1:23 van “die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is”. •En later lees ons: “Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies dit kon hoor” (2 Tim 4:17).
En skielik is dit duidelik waarom Paulus, en al die ander skrywers in die Nuwe Testament, kon verkondig dat die koms van Christus (in hulle tyd!) naby was. Hulle was oortuig dat die uitspraak van Jesus deur hulle optrede in vervulling gegaan het: Al die nasies (waarvan hulle geweet het) het reeds in hulle leeftyd die evangelie gehoor. En dit was ’n teken dat Jesus reeds in die tyd van die Nuwe Testament enige oomblik kon kom. Ons kan immers nie aanvaar dat Jesus onder “al die nasies” iets anders bedoel het as wat die apostels daaronder
verstaan het nie.
8.3.4 ISRAEL
Intussen bly Israel vir sommige gelowiges ’n baie belangrike saak. En in ons tyd kom dit weer sterk na vore. Mense is oortuig dat bepaalde dinge wat nou in Israel gebeur die vervulling van profesieë is. Kom ons kyk eers wat ons in die Nuwe Testament oor die toekoms van Israel het. •Matteus 10:23 Dit is nogal een van die moeiliker uitsprake van Jesus oor Israel, maar dit sê nie meer nie as dat die verkondiging van die evangelie aan Israel sal voortgaan tot Jesus kom. •Matteus 19:28 Hier staan net dat Jesus se volgelinge iewers in die toekoms oor Israel sal regeer. Die woorde: “Wanneer alles nuut gemaak word” laat ’n mens aan die nuwe aarde dink (Op 21:5), maar dis moeilik om dit daarby in te pas. •Matteus 23:39 Dis ’n besonder interessante uitspraak. Dis eintlik moeilik om te vertaal, want die Griekse vorm van “julle sal uitroep” dui ’n moontlikheid aan, nie ’n voldonge feit nie. Dit beteken iets soos: “Julle sal My nie weer sien nie behalwe as julle sal uitroep ...” Is dit nie van Jesus se kant af ’n oproep tot bekering nie? Kom ons kyk na die verband.
Matteus 23 het die skerpste uitsprake van Jesus in die hele Nuwe Testament. Dit is oordeel op oordeel op oordeel. En dan volg die laaste, vernietigende oordeel: Jerusalem sal verwoes word. Dit beteken eintlik dat God se besondere verhouding met Israel verbreek word. Dit het Jesus al vroeër aangekondig (Matt 21:43).
Maar dan hou Jesus nie hier op nie. Dan nooi Hy hulle uit om tot bekering te kom. Hy gebruik dieselfde woorde wat die juigende skare kort tevore by sy intog
gebruik het: “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom” (21:9). Hierdie volksleiers moet soos die skare word: Juigend oor Jesus. Vers 39 beteken dus skynbaar iets soos: Julle sal My net kan sien as julle tot bekering kom. Of: Indien julle tot bekering kom, sal julle My sien. •Lukas 21:20-24 Dis ’n deel van Jesus se profetiese rede. Dit gaan oor die verwoesting van Jerusalem. Heidene sal Jerusalem inneem en “vertrap totdat ook hulle tyd verby is”. Die heidene sal Jerusalem dus vir ’n bepaalde tyd lank vertrap. En daarna? Dit is die vraag. Hier staan niks oor wat daarna sal gebeur nie. Daar is mense wat dan baie dinge inlees wat daarna sal gebeur. Maar dit staan nie hier nie. Dit is dus ook moontlik dat die einde daarna kom, die wederkoms van Jesus en die nuwe aarde. Trouens dis presies waaroor Jesus dan verder praat (21:25-27). •Handelinge 3:19-21 Dit is Petrus se oproep aan Israel om hulle te bekeer. “Dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom.” Wat sal in hierdie tye gebeur? God sal alles nuut maak en vir Jesus stuur. Dit verwys tog seker na die wederkoms en die nuwe aarde. •1 Tessalonisense 2:16 “Die Jode het nog altyd gesondig, maar nou het hulle die maat van hulle sondes vol gemaak. Nou is dit klaar: die oordeel van God het hulle begin tref.” Dit is die toekoms van Israel.
Wat het ons tot hiertoe oor die toekoms van Israel gekry? •Ons sal nie klaar kry om die evangelie aan Israel te verkondig voor Jesus kom nie. •Jesus se volgelinge sal iewers in die toekoms oor Israel regeer. •Die Israeliete wat tot bekering kom, sal die Here Jesus sien en Hom prys. •Jerusalem gaan verwoes word, en skynbaar deur heidene vertrap word tot Jesus kom. •Die oordeel van God het Israel begin tref. •Wat het ons gekry? Israel wat hulle moet bekeer, en die oordeel van die Here is
oor hulle.
En die vyeboom? Sal die Here Jesus nie kom wanneer die vyeboom blare kry nie? Is die “vyeboom” nie Israel nie, en is “blare kry” nie Israel wat teruggaan na die staat van Israel nie? Nee. Ons kry dieselfde woorde van Jesus in Lukas: “Let op die vyeboom en al die ander bome. Sodra julle sien dat hulle begin uitloop, weet julle vanself dat die somer naby is” (Luk 21:29 ev). As “die vyeboom” Israel is, en as “begin uitloop” beteken teruggaan na hulle land toe, dan moet al die ander volke ook teruggaan na waar hulle vandaan gekom het. As ’n vyeboom iewers in die Ou Testament ’n simbool van Israel is, beteken dit nie dit is elke keer so ’n simbool nie. Hier is dit nie. Dis ’n gewone vergelyking: Wanneer bome blare kry, weet ons die somer is naby. Net so weet ons die koms van Jesus is naby wanneer ons die tekens sien waarna Hy verwys het. Wat bly oor in verband met Israel se toekoms? Natuurlik Romeine 11. Dit is ongetwyfeld die belangrikste en insiggewendste deel oor hulle toekoms in die Nuwe Testament.
8.3.5 ROMEINE 9 – 11
Hier het ons die enigste deel in die Nuwe Testament wat enigsins breedvoerige aandag gee aan die toekoms van Israel. Die agtergrond is die feit dat die kerk in Paulus se tyd vol heidene sit met baie min Jode, en dit terwyl Jesus die Jode se Messias is. Dit is vir Paulus ’n hartseer saak (Rom 9:1-4). Die rede waarom die heidene “oorgeneem” het in die kerk, is eenvoudig: hulle het die evangelie van vrye genade geglo, terwyl Israel self hul heil deur die wet wou verdien (Rom 9:30-33). En wat nou van die toekoms? Met ’n baie interessante beeld verduidelik Paulus dit, die beeld van die twee olyfbome (11:16 ev). Die mak olyfboom is die volk van God, die wilde boom is die heidene. Die stam of wortel van die mak boom is die gelowiges van die Ou Testament. Die Jode wat nie vir Jesus as Messias wou aanvaar nie, is die takke van die mak boom wat afgekap is. Die heidene wat tot geloof kom, is takke wat van die wilde olyfboom afgebreek is en op die mak boom geënt is (11:17-24). Hierdie beeld verduidelik die huidige situasie baie goed. Die kerk sit vol heidene, en Israel is in die geheel gesien, in ongeloof. En die toekoms? In ’n sekere sin is die toekoms oop. Die Jode kan nog inkom. Dié van hulle wat Jesus as Messias aanvaar, is soos afgebreekte takke wat weer op die mak boom geënt word (11:23). En die heidene wat hulleself verhef en nie in die geloof volhard nie, is soos takke wat van die mak boom afgebreek word (11:22). Hier kom nog iets by. As die Here die wilde lote op die mak boom kon ent, sal dit soveel makliker wees om die mak lote wat afgebreek is, weer terug te ent op hierdie boom (11:24). Dit beteken dat Paulus verwag dat dit maklik gaan wees om die Jode te oortuig dat Jesus hulle Messias is. Trouens, dit is ook sy eintlike oogmerk met sy sending onder die heidene. Hoewel hy die apostel vir die heidennasies is, strewe hy in sy bediening daarna om sy eie mense jaloers te maak deur die heidene wat tot bekering kom (11:13-14). Dit is sy hoop omdat Jesus eintlik hulle Messias is.
Dit beteken dat Paulus nie die bekering van Israel sien as ’n massale gebeurtenis iewers in die verre toekoms wanneer die hele volk eensklaps vir Jesus as die Messias sal aanvaar nie. Dit kan nooit die betekenis wees van “die hele Israel” wat gered word nie (11:26). Een enkele geslag iewers ver in die toekoms is nie “die hele Israel” nie, maar net een geslag. Daar is Christene wat meen 11:26 volg op 11:25, in plaas daarvan dat 11:26 ’n verduideliking is van 11:25; 11:26 begin nie met: “en daarna” nie, maar met “en op hierdie manier.” Hier staan nie dat die hele Israel gered sal word nadat die volle getal uit die heidennasie ingegaan het nie. Daar word niks gesê oor wat sal gebeur nadat die volle getal heidene ingegaan het nie (net soos in Lukas 21:24). Wat hier gesê word, is hoe die hele Israel gered sal word: As gevolg van Israel se verharding word die evangelie nou aan die heidene verkondig om Israel jaloers te maak. Dus, terwyl die heidene tot geloof kom, moet hulle Israel jaloers maak, en só sal “die hele Israel” gered word. Hierdie proses sal aanhou totdat die volle getal uit die heidennasies ingegaan het. Daar is nie goeie rede om te aanvaar dat daar dan op daardie stadium iets anders as die wederkoms van Christus sal plaasvind nie. Daar is nie sprake van ’n ander toekoms vir Israel nie as dat hulle verharding sal voortduur en net dié wat jaloers gemaak word, gered sal word. Die vraag is dan natuurlik hoe dit kan beteken dat die hele Israel gered sal word? Die eintlike vraag is wie “die hele Israel” is. Dit is moontlik dat ’n mens ’n antwoord kry in die slotgedeelte, 11:28-32. Dit eindig met die nadruk op die herhaalde woord “almal:” God het almal (Jode én heidene) aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal (Jode én heidene) kan ontferm.” Hierdie “almal” is die Jode en heidene saam. Elders noem Paulus die gelowiges van die Nuwe Testament ook “Israel” (Gal 6:16). “Die hele Israel” is dus nie die hele volk Israel nie, maar die nuwe gestalte van die volk Israel: die volle getal gelowiges uit die Jode en die heidene. Dit alles beteken dat Paulus nie vir Israel as volk ’n ander toekoms sien nie as dat hulle deur die gelowige heidene jaloers gemaak moet word en dus weer deel word van die eintlike “Israel,” die gemeente van die Nuwe Testament. Van ’n aparte toekoms vir die volk Israel is daar nie in die Nuwe Testament sprake nie.
In watter sin is Israel as volk dan ’n teken van die nabye wederkoms van Christus? Israel se voordurende verharding en die feit dat hulle deur die gelowige heidene jaloers gemaak moet word, moet ons daaraan herinner dat Christus enige oomblik weer kan kom. Van ’n terugkeer van Israel na die staat Israel kort voor die wederkoms van Christus is daar nie sprake in die Nuwe Testament nie. Die profesieë oor die terugkeer van Israel in die Ou Testament is vervul in die terugkeer uit die ballingskap in Babel.
KONKLUSIE
Die eindtyd of die laaste dae is dus nie ’n tyd wat Jesus en die apostels eers in die (verre) toekoms verwag het nie. Hulle verkondig: •dat Jesus in die laaste dae gebore is; •dat die Heilige Gees in die laaste dae uitgestort is; •dat die Regter voor die deur staan; •dat die gemeente in die eindtyd leef; •dat die einde naby is; en •dat Jesus gou sal kom.
Dit was ’n troos vir die vervolgde gelowiges, en ’n waarskuwing vir die ongelowiges. Dit beteken dat die Here Jesus enige oomblik kan kom, regtig voor die son môre-oggend opkom. Maar dit beteken ook dat ons nie weet wanneer Hy kom nie, en dat alle voorspellings en berekenings teen die boodskap van die Nuwe Testament ingaan. Ons moet leef asof Hy vannag nog kom. En werk asof ons ons lewe voor ons het.
9
WAT HET ONS ONDERSOEK OPGELEWER?
Kom ons kyk terug. Ons het baie verskillende sake ter sprake gebring. Dit gaan oor ’n beweging, nie oor ’n organisasie nie. Daar is nie ’n raad of ’n bestuur wat besluite neem en almal val daarby in nie. Dis ’n spontane beweging waarin sommige hierdie oortuigings het en ander weer ander oortuigings. Miskien sal geen enkele leser hom of haar volledig herken in alles wat hier geskryf is nie. Iemand voel dalk so hier en daar “tuis”, maar nie oor die algemeen nie. Dit kan eintlik nie anders as ’n mens oor ’n beweging skryf nie. Maar tog was dit nodig om oor al hierdie sake te skryf, omdat almal iewers onder die deelnemers aan hierdie beweging voorkom, en omdat ons wat nie daaraan deelneem nie, graag ’n bespreking oor al die aspekte van hierdie beweging wil hê.
9.1 ’N MISVERSTAND?
Is daar nie by sommige ’n misverstand oor ons navolging van Jesus nie? Niemand sal daaroor verskil dat dit baie belangrik is dat ons Hom sal navolg nie. Hy het self sy dissipels beveel om dit te doen (Matt 16:24 ev). Maar waarin moet ons Hom navolg? In Matteus sê Hy ons moet onsself verloën, ons kruis dra en Hom volg. Elders sê Hy ons moet Hom voor die mense bely (Matt 10:32). •Maar sien dit op wat Hy as getroue Jood gedoen het? •dat Hy besny is; •dat Hy gereeld die tempel besoek het; •dat Hy die sinagogedienste bygewoon het; •dat Hy mense wat Hy genees het, na die priesters gestuur het; en •dat Hy bevele gegee het aan sy volgelinge oor hoe hulle hul offers in die tempel moet bring? (Matt 5:23-24).
Gaan dit nie eerder oor sy waardes nie, oor sy lewe as ’n lewe in diens, oor sy liefde vir verlorenes, oor sy hulp aan mense in nood nie? Dit kan ons help as ons kyk na die vraag wáár die groot oorgang van die Ou Testament na die Nuwe Testament eintlik was. Normaalweg aanvaar ons dat die groot oorgang presies tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament was. By Matteus 1 sou ons in ’n nuwe wêreld inkom, die wêreld van die Nuwe Testament en van Jesus. Maar dis nie die eintlike oorgang nie. Die eintlike een is binne die Nuwe Testament, die oorgang ná die dood en opstanding van Jesus. Tydens Jesus se aardse bediening het min verander in terme van die Ou
Testament. Jesus tree op soos ’n getroue Jood wat die wet eerbiedig. Hierbo het ons ’n lys gemaak van sy wetsgetrouheid. Sy eerste preek is tipies dié van ’n OuTestamentiese profeet wat die volk tot bekering roep (Matt 4:17). Matteus beklemtoon sy fokus op Israel (10:5-6; 15:24) soos al die profete dit gedoen het. Teen die einde van sy lewe word dit duidelik dat die godsdiensleiers nie na Hom luister nie. Deur gelykenisse probeer Hy hulle skok om tot besinning te kom (21:45, 46), maar hulle teenstand word al erger. Dan volg die dramatiese aankondiging dat God Israel verwerp wat beteken dat die dissipels direk na die heidene gestuur sal word (21:43; 23:37-39). Dit is hier waar die werklike, radikale oorgang kom. As die godsdiensleiers voortgaan en Jesus laat kruisig, en Hy staan op, stuur Hy sy dissipels na die heidene, wat beteken dat Israel uitgeskakel word en sy besondere plek in God se heilsplan verloor. Wat uiteindelik vir hulle oorbly, is om deur die heidengelowiges jaloers gemaak te word om Jesus as Messias te aanvaar (Rom 11:1315). Nou is ons eintlik eers in die Nuwe Testament. Nou het die Gees gekom om die dissipels in die volle waarheid te lei. Christene meet dus hulle lewe aan die Briewe, nie aan Jesus se wetsgetroue optrede nie. Hy was nie ’n Christen nie, Hy was ’n wetsgetroue Jood. Maar tegelykertyd beëindig Hy ook die wet indien ’n mens die wet wou gebruik om aanvaarbaar voor God te word (Rom 10:4), en radikaliseer die wet vir die lewe van sy kinders deur die wet se geestelike betekenis na vore te bring (Matt 5). Indien ons Jesus só verstaan, besef ons dat ons ons nie daarop kan beroep dat Hy die wet gehou het, die Sabbat gehou het, die feeste gevier het en besny is nie. Dit was deel van sy lewe as getroue Jood, dit het nie deel gebly van die lewe van sy kinders nie. Dit het geleidelik verdwyn uit die lewe van die vroeë Christene.
9.2 “JESUS IN DIE OU TESTAMENT”
Ons het breedvoerig gekyk na die feeste, en veral na die gedagte dat die feeste eintlik die hele verlossingsplan van God sou voorafskadu. Ons het gesien daar is nie tekens in die Ou Testament dat hierdie feeste so ’n betekenis vir die toekoms gehad het nie, en ook dat daar nie in die Nuwe Testament sprake is van so ’n omvattende betekenis nie. Selfs wanneer Jesus die nagmaal tydens die Paasfees instel, lê Hy nie ’n verband tussen die twee nie. En elders word net die beperkte verband gelê dat Jesus ons Paaslam is (1 Kor 5:7). Maar daar is geen manier waarop ’n mens dit alreeds in die Ou Testament kon geweet het nie. Daar is dus nie ’n algemene verband tussen die feeste en die heilsgeskiedenis nie. Maar die besondere betekenis wat deur sommige aan die feeste gegee word, is deel van ’n groter prentjie. Daar is mense wat meen hulle kry Jesus “op elke bladsy in die Ou Testament”. En dan verwys hulle na besonderhede soos die engel van die Here, die skaapram toe Abraham vir Isak moes offer (Gen 22:13), Josef (Gen 37-50), die rooi tou van Ragab (Jos 2:21), die geleende byl en die stuk hout (wat dan na die kruis sou verwys, 2 Kon 6:3-7), die hemelwese by Daniël se drie vriende in die oond (Dan 3:25), en baie meer voorbeelde. Oor sommige hiervan het ek breedvoerig geskryf soos oor die engel van die Here (Die Groot Geloofswoordeboek, CUM 2006, bl 153) en aangetoon dat dit nie na Jesus verwys nie. Maar hier is nou ’n beginsel op die spel wat ons ook help met die betekenis van die feeste. Die beginsel is dat die skrywers van die Nuwe Testament die Ou Testament gefynkam het om aan te dui dat Jesus die vervulling van profesieë van die Ou Testament is. Net in sy eerste vier hoofstukke het Matteus 10 verwysings na die Ou Testament. Hy en die ander skrywers het ook uit hulle pad gegaan om profesieë, insidente en simbole uit die Ou Testament met Jesus in verband te bring: •Hy is die Lam van God (Joh 1:29); •Hy is die Paaslam (1 Kor 5:7);
•Hy word vergelyk met die manna tydens die uittog (Joh 6:30-36, 47-51); •Hy word vergelyk met die rots waaruit water gekom het (1 Kor 10:4); •Johannes bring Hom in verband met die woord wat God by die skepping gespreek het (Joh 1:1-3); en •Jesus noem Homself die “Ek is” wat verwys na die Naam van God, Here (Joh 8:24; Eks 3:14).
Hierdie is maar net ’n paar van die talle verwysings na die Ou Testament om die betekenis van Jesus te verstaan. Dit lyk my veiliger om ons hierby te bepaal, en nie ons oorspronklikheid te probeer gebruik om beter te soek as die skrywers van die Nuwe Testament nie. Hulle bied ons in elk geval ’n rykdom verwysings wat nog nooit regtig volledig ontwikkel is nie. Dit is dus nie net verkeerd nie, dis ook onnodig om die hele verlossingsplan van God in die feeste voorafgeskadu te sien. Dit staan nie in die Bybel nie, en dit kos baie vernuf om dit te probeer doen, want die betekenis van die feeste leen hulle nie regtig daartoe nie.
9.3 HOE WORD PROFESIEË VERVUL?
Hierby kom ook nog dat dit uiters moeilik is om profesieë te interpreteer en hulle vervulling te identifiseer. Dink maar net hoe probleemloos sommige die profesieë interpreteer oor die Sabbat en die huttefees wat in die toekoms gevier sal word. Kom ons kyk na die wyse waarop profesieë van die Ou Testament in die Nuwe Testament vervul word. Daar is ’n baie algemene oortuiging dat profesieë letterlik vervul word, dat ’n mens uit die profesie presies sou kon aflei hoe dit vervul sal word. Maar is dit regtig so? Kom ons kyk na ’n paar profesieë wat alreeds in die Nuwe Testament vervul is. Ek het breedvoerig hieroor geskryf in my kommentaar, ’n Perspektief op Openbaring. Kom ons kyk na Matteus 2:14-15. Op die bevel van die Here vlug Josef met Maria en die baba Jesus Egipte toe. Hulle bly ’n tyd lank daar en kom dan terug uit Egipte. Volgens Matteus is Hosea 11:1 hierdeur vervul. Hosea 11:1 lui: “Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep.” Hoe sou ek uit hierdie woorde kon aflei Josef en Maria sal met die Kindjie Jesus Egipte toe vlug en dan vandaar terugkom? Kom ons kyk ook na Herodes se kindermoord. Volgens Matteus 2:16-18 is dit die vervulling van Jeremia 31:15. Jeremia 31:15-17 is deel van die verhaal oor hoe die vroue tydens die ballingskap gehuil het oor hulle kinders wat weggevoer is. Die Here troos hulle dan met die belofte dat die kinders sal terugkom. Ons weet hierdie “kinders” was die jong manne en vroue wat as slawe Babilon toe weggevoer is. Hoe sou ek hieruit kon aflei dit sal vervul word in Herodes se kindermoord waarin dit nie gegaan het oor jongmanne en vroue wat weggevoer is en dus weer kon terugkom nie, maar oor babas wat vermoor is en dus nie weer kon terugkom nie?
Die laaste vervulling van ’n profesie waarna ons kyk, kom uit die mond van Jakobus (Hand 15:15-17). Hy verwys na die profesie in Amos 9:11-12. Die situasie is Handelinge 15, die eerste sogenaamde “sinode” van die vroeë kerk waar die probleem bespreek is van Paulus se sendingwerk onder die heidene. Paulus het nie van hulle verwag om die Ou-Testamentiese wette te hou soos die feeste, die Sabbat en die besnydenis sodat hulle gered kan word nie. Sy boodskap was dat hulle net deur die offer van Christus gered word as hulle hul vertroue in Hom stel. Maar sommige Joodse Christene wou hê dat hulle ook net soos die Jode die hele wet moes hou, en veral dat hulle ook besny moes word. Uiteindelik tree Jakobus na vore om die posisie van Paulus te steun. Sy punt is dat dit God is wat deur Paulus werk en besig is om vir Hom ’n volk uit die heidennasies te versamel. En volgens hom getuig die profete van ouds al daarvan. Om dit te bevestig, haal hy dan die profesie uit Amos 9:11-12 aan. Hierdie profesie lui: “Sodat My volk die oorwinnaar sal wees oor wat van Edom oor is, oor al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, sê die Here.” Hoe sou ek uit die profesie in Amos kon aflei dat dit vervul sou word wanneer Paulus die heidene na Jesus toe lei? Amos het ’n oorlogsprofesie: Israel sal sy ou vyand Edom oorwin, en trouens ook al die ander nasies oor wie die Here se Naam uitgeroep is. Die laaste frase beteken die nasies op wie die Here klaar beslag gelê het. Maar dit word vervul in Paulus se sendingwerk: Al die heidene wat deur die Here geroep is, sal Hom soek. As ons nou terugkyk na hierdie vervullings is dit duidelik dat ons die gedagte heeltemal moet laat vaar dat profesieë letterlik vervul word. In die meeste gevalle is daar op sy beste maar net ’n vae ooreenkoms tussen die profesie en die vervulling. Ons gevolgtrekking: Profesieë word so vry vervul dat ons nie vooraf uit die profesie se bewoording sou kon aflei hoe die vervulling sal lyk nie. In nie een van die gevalle wat ons behandel het, sou ons naastenby reg gewees het as ons vooraf probeer het om die vorm van die vervulling te bepaal nie. Die vorm van die vervulling is elke keer ’n verrassing. Dan moet ons versigtig wees oor die afleidings wat ons maak uit profesieë wat
nog nie vervul is nie, soos onder andere die toekomstige viering van die Sabbat en sommige ander feeste, en die gedagte dat die feeste eintlik ’n soort “profesie” is van die hele heilsplan van God.
9.4 DIE WAARDE VAN HISTORIESE GETUIENIS
Dit is nie goed om vas te hou aan jou interpretasie van iets uit die Ou Testament as die geskiedenis in die Nuwe Testament sterk getuienis daartéén lewer nie. Ek dink veral aan die Sabbat, die feeste, en die Hebreeuse Name van God en Jesus. Die historiese getuienis is oorweldigend dat Christene nie meer ná die opstanding van Jesus die Sabbat gevier het nie: 1Daar word nie na ’n enkele byeenkoms van Christene op die Sabbat verwys nie. 2Die woord “Sabbat” kom net een keer in Paulus se Briewe voor, en dan in die negatiewe opmerking dat die gelowiges dit nie meer moet vier nie (Kol 2:16). 3In Handelinge is Paulus telkens op die Sabbat in die sinagoge net omdat hy die Jode probeer oortuig dat Jesus die Messias is. Dit is nie byeenkomste van Christene nie. 4Paulus veroordeel die viering van die hele Ou-Testamentiese feeskompleks baie skerp in Galasiërs 4:9-11, en dis duidelik dat hy die Sabbat hierby ingesluit het.
Dit alles word gesteun deur die ander getuienis dat daar nooit sprake was van Christene in die heidenwêreld wat probleme gekry het met die viering van die Sabbat nie. Heelwat Christene was slawe wat elke dag gewerk het. Dit sou ’n uiters moeilike situasie geskep het as so ’n slaaf sou geweier het om op die Sabbat te werk. Sy baas sou hom eenvoudig verplig het. En die apostels sou moes raad gee. Maar ons kry niks in dié verband nie. Daar kan geswaarlik ’n ander rede vir dié stilswye wees as dat dit nie nodig was nie omdat die Christene ná Jesus se opstanding nie meer die Sabbat gevier het nie. Hierby kom nog dat die enigste positiewe verwysing na die vierde gebod ná die opstanding van Jesus, niks meer met ’n spesifieke dag te doen het nie, maar met ’n lewensstyl (Heb 4:8-11).
Hierdie feit dat Christene ná Jesus se opstanding nie meer die Sabbat gevier het nie, word verder gesteun deur die verwysings na die eerste dag van die week. Daar is sprake van gebeurtenisse op hierdie dag, van byeenkomste, en van pligte wat juis op hierdie dag uitgevoer moet word. Soveel historiese getuienis kan nie maar net in die wind geslaan word omdat ’n mens vashou aan ’n gebruik wat in die Ou Testament hoog geag is en nog deur Jesus gevolg is nie. Jesus se lewe was vol gebruike wat Christene nie meer navolg nie, soos die besnydenis, die tempelbesoeke, die offers en die sinagogebesoeke. Dit alles geld ook van die verpligting om die Naam van God en Jesus se Naam juis in Hebreeus te gebruik. Daar kan natuurlik in beginsel geen beswaar wees om hulle Name in Hebreeus te gebruik nie. Maar om dit verpligtend te maak, is die probleem. 1Dit staan histories vas dat die vroeë Christene uit die heidene nie hierdie Name in Hebreeus gebruik het nie. 2Dat selfs Paulus wat onder hierdie heidene sendingwerk gaan doen het, dit ook nie gedoen het nie. 3Dat hy in sy Briewe konsekwent Griekse vertalings vir hierdie Name gebruik het. 4Dat selfs die Evangelies nie Jesus se Naam of God se Naam in Hebreeus geskryf het nie. 5Dat selfs Jode wat in die buiteland was, die Griekse vertalings van hierdie Name in die sinagoge gebruik het. 6En dat ook die apostels wat in Jerusalem gewerk het in ’n gemeente van Joodse Christene, nie verplig gevoel het om hierdie Name juis in Hebreeus te gebruik nie (Jakobus in Hand 15:17).
Daar is vreemde teorieë dat die hele Nuwe Testament in werklikheid oorspronklik in Hebreeus geskryf is en eers later in Grieks vertaal is, sodat die Name oorspronklik in Hebreeus oorgelewer is en eers later foutieflik in Grieks
vertaal is. Maar daar is geen moontlikheid dat dit waar is nie. Daar is geen moontlikheid dat Paulus onder heidene wat nie Hebreeus geken het, sou gaan werk en dan vir hulle in Hebreeus sou skryf nie. En onder die duisende der duisende dokumente wat opgegrawe is, is nie een voorbeeld van een van sy Briewe in Hebreeus nie. Verder was Lukas self ’n Griek, en hy skryf sy Evangelie aan ’n Griek, Teofilus. Waarom in Hebreeus? Teen sulke sterk historiese getuienis is dit eenvoudig onwys om voort te gaan met oortuigings wat nie gegrond is nie.
9.5 DIE BADWATER SAAM MET DIE BABA?
’n Mens kan oorboord gaan. Ek meen jy kry dit veral met “huisskoonmaak”. Maar dis goed om net aandag te gee aan die Christelike feesdae. Dit het almal direk te doen met groot heilsdade. Daar is Kersfees, Goeie Vrydag, Paassondag, Hemelvaart en Pinksterfees. Daarmee herdenk ons die groot heilsdade van die geboorte van Christus, sy kruisiging, opwekking, hemelvaart, en die koms van die Gees. Dit vorm die hart van die evangelie. Ons het nie in die Bybel enige opdrag om hierdie feeste te vier nie, en die vroeë Christene het dit ook nie gedoen nie. Is dit dan verkeerd om dit nou te doen? Natuurlik word sommige van hierdie feeste kommersieel misbruik. Verkeerd! Maar moet ons nou die baba saam met die badwater uitgooi? Daar is miljoene Christene wat hulle nie deur die misbruik van hierdie feeste van stryk laat bring nie, maar die feeste met gejuig vier ter ere van die groot Koning. Na Kersfees het ons reeds gekyk (6.4). Maar nou die beginsel: Om dae te vier wat nie voorgeskryf is in die Bybel nie. Om dae en geleenthede te vier was algemeen in die Bybel. Dit het veral met Israel se uittog uit Egipte te doen gehad. Die Paasfees en die fees van die ongesuurde brode was die viering van hierdie bevryding uit Egipte. En indien Christene nou die fees van hulle bevryding uit die sonde wil vier? Niemand verplig ons om dit te doen nie, dis ’n spontane vreugdefees oor die goedheid van God. Trouens, dit staan ook nie in die Bybel dat ’n mens jou bekering of jou doop moet vier nie, maar sou dit dan ook verkeerd wees? Is die reeks Christelike feeste nie ’n wonderlike manier om gedurende ses maande (Desember tot Mei/Junie) stap vir stap God se wonderdade vir ons verlossing te herbeleef nie? Die engele het ook Jesus se koms met vreugde gevier.
1Die kruis is aanvanklik gevier nie, want daar was skynbaar niks om te vier nie. 2Maar hoe het alles verander deur Jesus se opwekking? Hoor hoe juig die elf: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn” (Luk 24:34). En hoor hoe juig Paulus selfs veel later oor die opwekking van Jesus (1 Kor 15). 3En die hemelvaart laat die dissipels nog lank die lug in staar (Hand 1:9-11). Ons kan dit maar saam met hulle doen. 4En dan kom die Gees om alles wat Jesus vir ons verdien het, in ons lewe in te dra, en deur ons in die wêreld in te dra. Kan daar ’n groter vreugde wees? Vier ’n mens nie fees as jy bly is nie? 5En waar is die wederkomsfees? Ons moet nog met so ’n fees ook begin, want dan vervul God sy beloftes en word die aarde nuut gemaak om by God en sy heerlikheid te pas.
Christene het rede om fees te vier. Niemand hoef dit voor te skryf nie. Trouens, ons lewe kan een groot loflied vir God wees. Kom ons hou op stry en begin feesvier, sommer elke dag, sommer as ’n lewenswyse.
Abraham of Moses? Geloof of die wet? Geld alle Ou-Testamentiese voorskrifte steeds vir Christene vandag? Indien nie, hoe onderskei ons dan wat geldig is en wat nie? Binne die Christelike gemeenskap is daar groot meningsverskille hieroor. Kwessies rondom die besnydenis, die Sabbat, eet- en drinkvoorskrifte, offerandes, die verhouding met niegelowiges, die gebruik van die ramshoring en die aanspreek van God op sy Hebreeuse naam duik telkens en al dringender op. In Terug na die Ou Testament ... wys die bekende teoloog Adrio König op die radikale oorgang wat Jesus met sy lering en sterwe bewerkstellig het. Hy wys ook dat dit gevaarlik is om by Christus te wil byvoeg – al is dit om jou geloof te “verryk”.
Adrio König is ’n baie bekende teoloog, veral ook in die openbare oog weens uitgesprokendheid en die aktuele onderwerpe waaroor hy skryf. Hy was sedert 1975 ’n professor in sistematiese teologie aan Unisa en begelei steeds nagraadse studente daar. Adrio tree gereeld op as prediker, spreker, gesprekleier en debatteerder in die media. Hy het al vele akademiese en populêre artikels geskryf. Hy is bekend vir die boeke God, waarom lyk die wêreld so?, Die helfte is my nooit oor Jesus vertel nie, Die evangelie is op die spel en Wat is reg? Weet iemand dalk?.
Terug na die Ou Testament…
Uitgegee deur Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms.) Bpk., Heerengracht 40, Kaapstad 8001 www.luxverbi.co.za
Kopiereg © 2014 Adio König
Tensy anders aangedui, kom aanhalings uit die Skrif in hierdie boek uit Die Bybel in Afrikaans (1983-vertaling met herformulerings). Kopiereg © 1983, die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingbewaring of -ontsluiting.
Omslagontwerp deur Naomi Wessels E-boekontwerp deur Trace Digital Services
Ook beskikbaar in druk: Eerste uitgawe, eerste druk in 2014 ISBN: 978-0-7963-1884-8
Epub-uitgawe: Eerste uitgawe in 2014 ISBN: 978-0-7963-1885-5 (epub)
Mobi-uitgawe: Eerste uitgawe in 2014 ISBN: 978-0-7963-1886-2 (mobi)