Vir ou Saai – hy was ’n vriend
1
’n Skoot klap en ’n vrou se gil sny deur die lug wat dik van die reuk van lasagne en tuinkompos om die huis hang. Twee kransduiwe wat in die geut bokant die voordeur broei, tuimel met ’n wilde gefladder teen die muur af en ’n hadida flap skellend op vanaf die nok van nommer dertien se teëldak en verdwyn swetsend oor die toppe van die omliggende tuine se seders en jakarandas. Die buurt se brakke bars los in ’n koor, met die diep bas van die buurman se basset, die tenoor van die ou man oorkant die straat se boerboel en die skril sopraan van die oujongnooi laer af se baster-dwergkees met die lang bene. Die houtvoordeur met die uitgekerfde olifant bars oop en ’n middeljarige vrou strompel skreeuend en met ’n bebloede gesig oor die voorstoep en deur die gordyn van hangende varings, val-val die trap af en met haar arms hemelwaarts gestrek, pyl sy op die halfoop voorhekkie af. ’n Jong man met ’n vuilswart Che Guevara-T-hemp wat oor ’n denim met bokknieë hang, slinger met ’n pompaksie-haelgeweer in die hand deur die deur en struikel ’n slag met sy deurgetrapte sandale oor die klapperhaardeurmat. Sy gesig en oë is vertrek tot ’n soort waansin-masker, spoeg en kwyl en ’n klomp onverstaanbare krete spat by sy mond uit. Die twee polisiemanne wat op pad was na die voordeur, duik agter ’n vuilwit gipsornament en ’n selonsroos in. Voordat hulle ’n vinger kan verroer, het die vuil jongeling regop gekom. Hy pomp die geweer met die een hand, druk dit teen sy skouer en vuur. Die strompelende vrou se kop bars oop soos ’n oorryp waatlemoen en die slag van die skoot slinger haar vas teen ’n asbespot met ’n broodboom daarin. Hy ruk weer ’n patroon in die loop en die tweede skoot hael verwoes die kop en skouers van die lewensgroot Venus-beeld waaragter kolonel Kat Harmse sy groot lyf probeer klein maak. Weer ruk hy aan die pompmeganisme en skiet ’n skoot in die selonsroos waaronder kaptein Jerome Williams ingeduik het. Die speurder gee ’n tjank van pyn, en toe die skieter nog ’n skoot in die vrou op die paadjie se flenters liggaam inskiet, spring hy op en hardloop na ’n asbestuinbank en duik tussen die klippe en vetplante daaragter in. Bloed drup van sy regterhand; sy wapen het op die kweekgrassies agter die selonsroos bly lê.
“Bliksem!” Kat vat die Z88 stewig in albei hande vas en neem dooierus op Venus se ruim boud. “Polisie! Laat val jou wapen! Police!” Toe die volgende skoot hael in die beeld se sitvlak vasslaan en stukkies gips en sement teen sy voorkop vasspat, trek Kat die negemillimeter se sneller twee keer vinnig ná mekaar. Die haelgeweer kletter op die stoepteëls en die skieter sak stadig bo-op die rokende wapen neer; twee kolle blom rooi uit op die gryserige gesig van die vryheidsvegter op die vuil hemp. ’n Oomblik is dit stil. Dit is asof selfs die brakke asem ophou terwyl Kat die man op die stoep dophou vir enige beweging. ’n Plas bloed het onder die T-hemp begin uitkruip, ’n dammetjie gemaak wat oor die boonste stoeptrap uitloop. Die gedruis van die verkeer in Jan Smutsrylaan, ’n paar blokke weg, kom lê soos ’n wit laken oor die tuin. ’n Sirene huil in die verte. Ongelukkig in die verkeerde rigting, dink Kat. Hy is ’n groot man met breë skouers en ’n groot swart snor. ’n Ou litteken lê soos ’n Nike-regmerk van sy regteroogbank, tussen sy swart krulhare deur tot by die stuk regteroor wat oorgebly het ná ’n skietgeveg in ’n Vrystaatse populierbos. Kat kom stadig regop, die pistool ’n verlenging van sy twee gestrekte arms, maar al wat op die voorstoep beweeg, is die taaierige bloed wat drup-drup teen die trap af. Kat vee sy snorpunte met die kneukel van sy regterhand se wysvinger uit sy mondhoeke, eers links, dan regs. Die noodoproep het net melding gemaak van een skarminkel, maar ’n mens kan nie te versigtig wees nie. Eers as die adrenalien uit hom weggevloei het, laat sak hy die wapen, vat ’n slag aan die litteken wat nou gloeiend rooi bult. ’n Dowwe pyn klop deur sy kop – niks was ooit weer dieselfde ná die skade wat daardie koeël aangerig het nie. Hy knyp sy neus se brug tussen twee vingers vas. “Is jy orraait?” roep hy oor sy skouer in Jerome se rigting. Die jong speurder kom aangehink oor die grasperk, trap skeef op ’n tuinslang wat oor die gras kronkel. ’n Bebloede sakdoek is om sy hand gedraai en hy sukkel met die ander hand om ’n skoonma-se-kussing se haakdorings uit sy arms en bors te trek. “Ek’s orraait.” Hy tel sy wapen op. “Maar ek dink my pistool het sy gat gesien. Van die haelkorrels het dit uit my hand geruk.” Hy knik in die rigting van die stoep. “Wat’s daai laaitie se pyne?” “Ek weet nie, lyk soos dwelmpyne.”
’n Wit malteser kom verskrik by die deur uit, ruik aan die bloed en die lyk op die stoep. Kat het ’n beklemming in sy bors. Hy wil iets sê, iets snaaks om die ding uit sy lyf te kry. “Ek … ek dink ook nie dis die eerste keer nie.” Hy beduie na die verrinneweerde Venusbeeld, grynslag. “Lyk my hy het haar arms lankal afgeskiet.” Kat hou Jerome onderlangs dop en as hy sien sy flou grap maak geen indruk nie, brom hy: “Ag hel, jy het ook geen kultuur in jou bleddie lyf nie. Kom ons gaan kyk wat in die huis aangaan. Daar is veronderstel om iewers nog ’n slagoffer te wees.”
In die straat voor huis nommer dertien leun kolonel Kat Harmse en kaptein Jerome Williams met hul boude teen die polisiemotor, trek diep aan hul sigarette. Albei is nou Valke, oftewel lede van die Direktoraat vir Prioriteitsondersoeke, ’n nuwe elite-eenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Kat se Nike-litteken is weer wit en ná twee Grandpa-poeiers het die hoofpyn bedaar. Die son het lankal met ’n Josefskleed van rooi en pienk en swart cirrusstrepe agter die huise se dakke verdwyn en al wat in die straat oorgebly het, is die grys skemerte voordat die straatligte inskop. In die huis het hulle gesien wat hulle wou sien en wag nou vir die forensiese mense om hulle ding af te handel. Die stil, boomryke straat van dié woonbuurt in die noorde van Johannesburg is skielik nie meer so stil nie. Mense drom onder die elmbome op die sypaadjies saam; hulle word teruggehou deur die geel bande wat die manne in uniform gespan het. ’n Ambulans met blou en rooi flitsende ligte staan in die oprit en wag vir die misdaadtoneel-ondersoekeenheid om klaar te maak. By die voordeur kan Kat in die flou lig van die stoeplig die twee bondeltjies mens sien lê, nou toegegooi met komberse. ’n Ma en haar sestienjarige seun. Nie baie jare terug nie het sy aan hom die lewe geskenk, en hom vertroetel en gekoester tot hy op eie bene kon staan. En toe het daardie wit kristalle uit die hel alles ongedaan gemaak … Tik. Kat vee ’n slag sy groot swart snor met ’n kneukel uit sy mondhoeke, skiet die stompie driftig van hom af weg. In die voorkamer lê nog ’n lyk, vermoedelik die pa, maar dit is moeilik om ’n man aan ’n foto uit te ken as sy gesig deur ’n skoot bokhael in ’n bloederige gemors verander is. Op die kaggel is daar ’n foto in ’n goue raam van ’n man saam met die twee wat daar buite onder die komberse lê, by hulle ook ’n swartkopdogtertjie. Dit moet die man wees. Die hel weet wat van
die kleintjie geword het. Dit is nie baie lank terug geneem nie, op ’n strand iewers, onder ’n sambreel, met die see agter hulle en geluk in hul oë. Nou lê hulle verstrooi in en om die huis, stukkend geskiet, leeg gebloei en uitmekaar geruk deur die geweld van dwelms. Kat sug. Hoeveel gesinne nog? Die verdomde tik was eers net ’n gemors van die Kaapse Vlakte, nou slaan dit soos bossies hier uit. Dit is veral die jong mense wat vatbaar is vir die gevoel van geluksaligheid wat die dwelm gee, ’n gevoel wat jou ure lank kan laat ontsnap van die groepsdruk van skool en ouers en maats. Crystal Meth, die kristalle wat jou ure lank kan laat wakker bly, selfs dae, sonder dat jy moeg of honger word. En heeltyd soek jy seks, sonder om ’n simpel klein dingetjie soos vigs in ag te neem. Maar as daardie wit kristalle jou los, is jy in ’n graf so diep soos Kimberley se gat en dit is net ’n nog groter dosis wat jou daar kan uitkry – totdat die chroniese misbruik daarvan jou aggressie so buite beheer laat ontplof dat jy ’n haelgeweer gryp en jou ouers flenters skiet. Hel, hy hoop die sussie is veilig by ’n ouma of so iets, op die plaas – as daar nog ’n ouma is. Die maatskaplike werkers moet maar daardie deel uitpluis; dalk is sy lankal dood. Kat spoeg ’n blerts in die rigting van die growwe stam van die elm op die sypaadjie, druk hom met sy boude weg van die patrolliemotor en loop brommend ’n ent weg. Die litteken is nou weer ’n rooi streep. Die malteser sit steeds by die ma se lyk, sy fyn tjankgeluidjies kan selfs in die straat gehoor word. Jerome hou sy ou vriend uit die hoek van sy oog dop. Onverskrokke, skrik-virniks-en-as-jy-met-my-neuk-raak-jy-gemoer, veral as die rooi regmerk langs sy gesig blits: Kat Harmse. Maar hy het ’n gevoelentheid vir kinders in hom en ’n klein hartjie as dit by gesinsake kom. Hy was getroud met ’n regte teeferasie, ’n losgat van ’n vrou, wat ná die egskeiding die sorg van sy seun gekry het. Deesdae word op haar hoipolloi-partytjies wit strepe poeier met ’n glasstrooitjie van ’n stuk spieël af opgesnuif om die paartie meer skop te gee, terwyl sy laaitie sonder kos in die kamer lê. En as iemand so dapper is om oor Kat se skewe neus te vra, sê hy gewoonlik: “So gemoer, nie so gebore nie.” As jy mooi en jonk en vroulik is, kan jy maar vra, maar as jy nie al bogenoemde eienskappe het nie, is dit veiliger om eerder nie aanmerkings te maak nie, tensy jy van kleins af ook so ’n neus wou gehad het. Kat se groot swart snor neuk alewig om by sy mondhoeke in te krul; hy is juis
besig om die punte met die kneukel van sy regterwysvinger uit sy mondhoeke te vee, eers links, dan regs, altyd eers links en dan regs. Dit is sy “move” wat hy sweer ’n wellusprikkelende uitwerking het en gewaarborg is om enige mooi jong vrou se bene lam te maak – veral as hy nog met sy donker oë so half geheimsinnig en smeulend onder deur sy ruie swart wenkbroue na die slagoffer loer. Kat skop na ’n leë Coke-blik op die sypaadjie, kom teruggestap. “Jeromepie! Danelle moet haar stront los!” Hy bly ’n ruk stil en kom leun weer met sy boude teen die motor. “En daai Louis-prokureurtjie moet sy gat in rat kry, ek móét net die toesig van Rohan terugkry, voordat hy ook daai wit stront begin snuif.” Hy loop rusteloos, met sy hande diep in sy sakke weer ’n draai om die boom, voel aan die aanknipholster agter sy heup. Kat hoef nie te verduidelik nie, Jerome ken die storie. Louis du Randt is Kat se prokureur, Danelle sy hupse gewese vrou en Rohan sy sesjarige laaitie. “Ja-uh.” Jerome vou sy arms voor sy bors en sug simpatiek. Wat kan hy anders sê? “Hier kom Pine,” sê hy dan en beduie straataf na waar ’n man onder die geel band deurbuk, net wanneer die straatligte begin aanflikker. Brigadier Pine Pienaar is groot en breed en sy skouers begin onder sy ore, van jare se voorry speel vir die ou Transvaal – baie soos die skouers van ’n brandewynbottel. Dit lyk asof hy nie ’n nek het nie, en sou jy na die oorsaak dáárvan vra, sal hy jou vertel dit het eintlik niks met rugby te doen nie, maar is van nagte se pajamadril met ’n fris, skreeuende koliekbaba in die arms. Nie vet nie, net fris, en moet eendag ook rugby speel, soos sy pa. Hy is ook die bevelvoerder van die Valke se eenheid vir georganiseerde misdaad in Gauteng. Kat en Jerome stap Pine tegemoet. “Pine, wat kom soek jy hier?” vra Kat. “Jy’s nou ’n speknek-direkteur en is veronderstel om jou agterent te sit en blink skuur agter ’n lessenaar, of saam met generaal Silkaats tee te drink,” brom hy in ’n poging om die aandag af te lei van die tragedie daar op die stoep. Pine steek sy kromsteel op, beduie daarmee na nommer dertien se stoep. “Wat het hier gebeur?” “Hel, Pine,” sê Kat met sy halwe oor in die hand, “die laaitie het sy pa se pompaksie-twaalfboor in die hande gekry, nommereens in die magasyn.” Hy spoeg nog ’n blerts windaf, vee sy snor skoon. “Dit was nie mooi nie.”
“Motief?” “Dit smaak my die laaitie se tik het opgeraak en sy ou toppie het sy brood afgesny. Toe kon hy nie meer koop nie, en raak toe kwaai aggravated met die automatic bazooka saam.” As Jerome snaaks wil wees, of as hy ontsteld is soos nou, slaan die taal wat hy op die Kaapse Vlakte geleer het, gewoonlik sterk deur. “Ek verstaan julle het een geskiet, dis waarom ek hier is – Mkhize het my in bevel van die ondersoek dáárvan geplaas.” “Ag hel, dit ook nog!” sug die groot speurder moedeloos. “Ek het die bliksem geskiet, Pine. Jerome het niks daarmee te doen nie, sy pistool is flenters geskiet voordat hy ’n skoot kon aftrek.” Kat se oë raak skielik vasgenael op ’n figuur met ’n wit jas wat doenig is by een van die komberse. “Daar sal nie probleme wees nie, dit was ons of hy,” sê hy afgetrokke. Pine volg sy oë na die witjasfiguur, knipoog vir Jerome. Dr. Annie de Villiers, patoloog en forensiese deskundige, en die sexyste ding wat Kat nog op twee lang slanke bene gesien het. Mooi Annie, noem hy haar dan ook, natuurlik sonder dat sy weet. Sy’s ook die enigste vroumens vir wie “die move” glad nie werk nie, want sy’s te hoipolloi vir hom – of so reken hy. Pine steek sy pyp op, blaas die blou rook die lug in. Om Kat so beenaf te sien is iets om oor te glimlag. “As julle klaar is hier moet julle kantoor toe kom dat ons die papierwerk kan afhandel.” “Mmm,” sê Kat. “Mmm wat?” vra Pine. Sy wat Kat se onverdeelde aandag geniet, maak ’n laaste draai om die lyk, skryf iets op ’n knipbord voordat sy in die tuinpaadjie na die drie speurders aangestap kom. Die wit jas is oopgeknoop en die pante wapper agter haar in die wind. Kat sien hoe die wind haar bloes teen haar bolyf vasdruk en sy mond word droog. Annie de Villiers is lank met lang swart hare wat sy in ’n Franse vlegsel dra. Haar oë is donker agter ’n byderwetse, reghoekige swartraambril. Sy het ’n blou denim en rooi bloes aan onder die wit laboratoriumjas. “Brigadier Pienaar, ons is klaar hier,” sê sy. “Kan ons maar die lyke verwyder?” Haar stem is diep en
heserig, en dit laat Kat senuagtig met sy snor doenig raak. Pine knik. “Ja wat, Kat en Jerome is eintlik in bevel van die ondersoek, maar hulle kan tog niks sonder die forensiese verslag doen nie.” Annie trek die jas oor haar skouers af en hang dit oor haar arm. Onder die jas het sy ’n Z88 in ’n aanknipholster. Bliksem! Kat gee die snor weer ’n paar driftige vrywe. Met daardie bloes is dit wragtig moeilik om haar in die oë te kyk. “Kolonel Harmse,” sê Annie en kyk Kat effens uit die hoogte aan, “my oupa se snor het hom toe hy oud geword het net so geïrriteer. Hy het altyd vloerpolitoer aangesmeer en die punte gedraai om die hare uit sy mondhoeke te hou. Jy kan dit gerus ook probeer.” Sy draai om en loop wipgat terug na die stoep. “Totsiens,” roep sy oor haar skouer, terwyl sy die ambulansmanne met die draagbare nader wink. By die hekkie draai sy om, loer weer in Kat se rigting. “Jy kan die grillerige ding natuurlik afsny ook,” sê sy. Wat de hel het hy nou gedoen om dit te verdien? Dit is net ’n forensiese patoloog wat in sulke omstandighede nog kan probeer simpel wees ook. Dit onderstreep maar net wat hy van haar vermoed, dat sy geen emosies het nie, so koud en taai soos gistermiddag se braaivleis. G’n wonder die manne by die stasie noem haar Doctor No nie. Kat kyk vir oulaas by haar verby na waar die ma en haar seun se bloederige oorblyfsels op draagbare gelaai word. ’n Buurman het gelukkig die malteser kom haal. Wat ’n verdomde vermorsing van die lewe. Hy gee sy neus ’n pluk voordat hy die motordeur oopmaak. “Kom, Jerome, kom ons ry,” sê hy sonder om verder na nommer dertien te kyk.
2
Die groot houtdeur klap met ’n harde slag agter Charlie Stevens toe; hy luister na die skerp geknars van ’n sleutel in die slot voordat hy in die oggendlug opkyk. Die sonlig wat van die teerstraat weerkaats, laat hom sy oë ’n oomblik toeknyp. Hy het die afgelope agt jaar te min son gesien – sonlig wat deur tralies val, tel nie. Daar is ’n dynserigheid wat plek-plek nog bokant die stad hang, en die lewe buite die tronk ruik na konka-vure, petroldampe en nat strate. Voor hom raas die verkeer in Potgieterstraat, in twee rigtings onder deur Dequarstraat se oorbrug voordat dit duskant Visagiestraat, anderkant die treinspoor, weer in twee strome verdeel. Dieselfde verkeer waarna hy snags, met sy rug na die muur, gelê en luister het in ’n futiele poging om nie die gekerm van die ander gevangenes te hoor nie. Die gekerm kon nog gaan, maar dit is die geroep die nag in na geliefdes wat hom later gevang het. Dit is onverstaanbaar hoe van die brekers van die plek, manne wat sit weens verkragting en moord, as dit stil en donker raak in hulle slaap na hulle ma begin roep, al was sy ook die een wat onder die mes deurgeloop het. Wat is ’n huis sonder ’n moeder … Fok! Daar is niemand wat sou luister as hy snags sou roep nie. Die vigs en longkanker het Pa lankal in Zonderwater opgevreet. Ma bly nou in Danville, in ouma se ou huis, saam met die boekesmous waarmee sy die pad gevat het nadat Pa die Lexington verruil het vir boom en die groentetuin vir ’n daggabedding agter die longdrop, dáár langs die twee blink treinspore tussen niks en nêrens, iewers in die Groot-Karoo. Dit is ongelooflik hoe geil ’n daggaplant in die Karoogrond kan groei as jy dit net genoeg liefde en water gee – en hom natuurlik gereeld snoei en gebruik. Charlie voel aan die geld in sy broeksak. Nie veel nie, dit is al wat hy het en dit sal lank moet hou. Totdat hy weer ’n kontrak kry. ’n Kontrak sal dit moet wees, want dit is al ambag wat hy ooit geleer het, vrekmaak vir geld. Dit sal moeilik wees om weer te begin, die sindikate sal hom nie maklik vertrou met sulke delikate sakies soos om van hulle ongeliefdes ontslae te raak nie. Nie ná agt jaar in die tronk nie, die Boere het ’n manier om met ’n man se kop te smokkel in die tronk. Hy sal hom eers weer van voor af moet bewys en daarvoor het hy ’n kontrak nodig. En die langloop-.22 op die plafon van Ma se huis.
Uit sy hempsak haal hy ’n flenter bruinpapier met vetkolle. Ma se nommer, of altans dit was toe hy laas van haar gehoor het. Sy het hom so wragtag in die tronk kom besoek. Eintlik net kom hoor of hy nie ’n “ietsie” vir haar gehad het nie, “net totdat dinge weer beter gaan”. Fok! Hy gooi die verbleikte sportsak oor sy skouer en stap in Potgieter af totdat hy ’n telefoonhokkie kry waarvan die gehoorbuis nog nie afgesny en die muntkassie nie oopgebreek is nie – én wat muntstukke vat. Om met ’n kaart te bel het jy geld nodig om een te koop, iets wat hy nie het nie. Ja, daar lui die foon tog. Dis ’n begin as dit lui, die nommer bestaan darem nog. Ná ’n ruk hoor hy iemand optel. Stilte. Net ’n raserige, hees asemhaling. “Ma?” vra Charlie huiwerig. “Ja?” Dit is sy; hy kan aan daardie enkele woord hoor dat sy weer moeg en sat gesuip is. Elfuur in die oggend! “Fok, Ma! Dis te vroeg om gesuip te wees.” “Wie praat?” Hel! Wie sê nóg vir haar Ma behalwe hy? “Charlie, Ma, jou laaitie.” Stilte. “Ma?” “Ek het nie meer ’n laaitie nie … Hy sit in die tronk … net soos daardie sleg bliksem van ’n pa van hom.” Haar stem klink moeg, asof selfs praat vir haar te veel is. “Bly die boekesmous nog by Ma?” “Wie?” “Die sleg hel met wie Ma destyds die pad gevat het, ná hy vir die pote van pa se daggaplante vertel het … ek soek hom.”
Stilte. “Hy’t ons hele gesin kom opfok, Ma. Dis ook hy wat die pote op my spoor gesit het. Ná die weeshuis het ek ’n goeie bedryf opgebou, totdat hy …” Sy sug, val hom in die rede: “Hy bly lankal nie meer hier nie, Charlie. Hy’t net geloop, een môre toe ek opstaan, was hy weg. Ek … ek hoor hy het die boeksmoy verruil vir dwelms. Glo meer geld. Verkoop makliker.” Charlie hoor die gegorrel van drank deur die nek van ’n bottel, hoe sy gulsig sluk. G’n wonder die smous het die pad gevat nie. “Wanneer het jy uitgekom?” vra sy nadat sy weer asem geskep het. “Nou net. Ek staan voor die tronk in die straat.” “Kom jy hiernatoe?” “Kan ek?” Stilte. “Daar het ’n vrou gebel.” ’n Vuurhoutjie knars oor ’n boksie, hy hoor hoe dit opvlam en hoe sy suig om die sigaret brand te maak. “Sy soek jou vir ’n jop.” “Watse werk?” Charlie kan hoor hoe haar lippe klap soos sy ’n paar keer hard suig aan die sigaret – heel moontlik ’n daggazol – om die kooltjie soos altyd lank en warm te trek vir ’n groter skop. Meer satisfaksie ná die aksie, sê sy altyd. Hel, watse aksie? Om die bottel se prop af te draai? Daar is ’n rukkie stilte om te wag vir die rook om sy werk te doen voordat sy dit met ’n sug deur haar neus uitblaas. Niks het nog verander nie. Hy kan haar sien sit by die telefoon, kruisbeen op die plankvloer. Kamerjas, krullers in die hare, bottel op die grond en die siegret vasgeknyp tussen twee geel vingers van dieselfde hand wat die gehoorbuis vashou – sy moet darem ’n hand los hê vir die bottel. Stilte. Sy moes vergeet het van die vrou met die werk. “Ma?”
“Wat’s dit nou?” “Die vrou, die werk. Wat is dit?” “Sy’t nie gesê nie … net ’n nommer gelos. Ek … ek sal moet soek …” Haar tong sleep oor die s’e en haar stem raak afgetrokke. “Kom oor … Ek … ek sal … solank … soek …” Sy laat val die gehoorstuk op die mikkie. Hel! Al waarna sy nou gaan soek, is die slaapkamer, dit weet hy. Dit is asof hy ook die bed voor sy geestesoog kan sien: deurmekaar opgefrommelde vuil beddegoed, ’n vuil bord met ’n paar stukke harde broodkorsies en doodgedrukte stompies daarin op die tafeltjie voor die bed, langs ’n glas met ’n rooi lipstiffiekring aan sy rand en die bruin oorblyfsel van gisteraand se nightcap op die bodem. Soos in die ou dae. Laat sy maar eers haar roes afslaap, totdat hy daar kom. Miskien lê die pistool nog op die plafon waar hy dit destyds weggesteek het voordat die pote hom kom haal het. Dan is hy weer in besigheid.
3
Sy het hom geframe! Die verdomde teef met die groen katoë het hom in sy moer in geframe. ’n Vriendelike drywer van ’n koletrok het Charlie op Emalahleni opgelaai en by die Wimpy op Volksrust afgelaai. “Ons hardloop met die energy crises nou gereeld met die steenkoollorries deur Natal toe, Oom. Jy sal maklik ’n lift kry verder, as jy Durbs toe wil gaan. Die weer is dié tyd van die jaar orraait daar en daar is baie slaapplek op die strand. My ma se broer is ook op die pad. Hy like weer Margate, sê die mense daar gee nog om en die vakansiegangers se beursies is oop vir ’n perd met bokkerol.” Oom! Lyk hy dan soos ’n ou trêmp? Hy’t net baie myle en tronktyd op. Maar die drywer was reg, hy hét ’n lift gekry. Die witkop met die groen oë het hom twaalfuur die nag daar opgelaai, en hom afgelaai by die plaashek op ’n godverlate stuk sinkplaatpad iewers tussen Volksrust en Vrede. Om haar ou man te skiet was maklik. Ja, ’n kind sou dit kon doen, want die ou donner in die rolstoel was klaar geskiet! Iemand anders het twee holpunte deur sy ou gryskop gejaag. Hy het nie eens geweet van die ou vrou nie, sy was nie deel van die kontrak nie, maar toe hy in die slaapkamer na die kluis gaan soek waar sy pay veronderstel was om te wees, lê sy voor die kluis – die leë kluis, fok! ’n Skoot deur haar nek het die slagaar gesny en sy het gebloei soos ’n vark, van die kombuis af tot in die agterste kamer voor die kluis, asof sy tot daar gekruip het. Daar lê sy nou met ’n geraamde gesinsportret wat sy vasklou. Charlie kan die ou man in sy rolstoel herken, die ou vrou ook – dit moet sy ma wees, die familietrekke is daar. En daar is die witkop met die katoë ook, met ’n witkoplaaitie langs haar op ’n stoel. Hy’s veronderstel om ’n ou aap in dié game te wees, een wat nie meer sy ketting laat rattle nie. Hy moes geweet het daar is fout toe sy daarop aangedring het om die pistool self te verskaf. Nie dat hy ’n keuse gehad het nie, die verdomde boekesmous is weg met die .22 wat op die plafon was.
Die stront is net dat dié ou kliphuis nou sy handtekening dra: sy DNS, sy vingerafdrukke en selfs sy verslete tekkies se spore is afgedruk in die bloed van die ou vrou in die gang. Hy kan net so wel sy vinger in die bloed druk en teen die muur skryf: Charlie Stevens was hier. Daaronder ’n skets van ’n kop met twee onnosel oë en ’n lang neus wat oor ’n baksteenmuur loer. Soos Kilroy. Die pote is op pad, daarvoor sal sy sorg – dis vir seker deel van haar plan. Maar iets van die ou vrou in die kamer pla hom, steek nou al ’n ruk in sy kop vas. Charlie loop vinnig in die gang af na die kombuis. Daar is net een uitweg. Hy skop die paraffienverwarmer wat voor die ou man se bene gestaan het op die kombuis se plankvloer om en ruk die agterdeur oop. Ná die warm huis tref die koue naglug hom soos ’n nat vadoek in die gesig. Dit maak hom nog meer verward en die moer in. Dat daardie bitch dit kon waag om ’n gat te maak van hom, hy wat op sy dag Joburg se mees gevreesde hitman was. Sy, ’n skelm blondekop wat van haar man ontslae wou raak omdat hy nie vanself wou vrek nie. Sy wou hom vrek hê omdat sy sy geld wou erf. En die ou vrou was natuurlik nog ’n erfgenaam waarvan sy ontslae wou raak, maar hoekom het sy hom nie van haar vertel nie? ’n Leë kluis … ’n Lyk waarvan hy nie eers geweet het nie … en een wat reeds geskiet was toe hy die twee hol loodpunte deur sy kop gejaag het. Hoe moes hy geweet het die ou donner was klaar dood? Daar was nie baie bloed nie, ’n .22 maak nooit baie bloed nie. Dit het gelyk of hy sit en slaap so voor die verwarmer met ’n kombers oor sy ou bene. Vir wat het die witkopteef hom gehuur as sy self die werk wou doen? Dis natuurlik om hom die sondebok te maak. Hy is gefokken frame! Met sy reputasie sal dit nie moeilik wees nie. Hy is seker die pote is op pad, sy sal wel daarvoor sorg. Wat sê hy vir hulle? Wat sê hy vir enige iemand wat vra hoe hy hier beland het en wat hy op hierdie godverlate plaas soek? Wie gaan hom glo as hy sê hy het al die pad van Pretoria geryloop tot hier om tussen bokkerol en ’n paar kliprante te kom rus ná ’n harde tyd in C-Max? Om van die stad se lawaai weg te kom? Geen poot sal hom glo nie. As jy tyd uitgedien het vir moord en op parool uit is, moet jy ver weg bly van plekke en situasies soos dié een hier agter hom in die groot kliphuis. Die maanlig laat die veld om die erf wit en spookagtig uitstrek tot by die donker horison. Langs die klipstoor lê ’n spul ou verrinneweerde implemente op ’n hoop, ’n spul gedrogte wat met geknakte ledemate in die lug grawe. In die laagte
by die hek trek die maan ’n helder riffelstreep oor die plaasdam. Dan kom daar van iewers ver weg ’n stotterende geluid. Charlie luister. Kan dit wees? ’n Helikopter? Hier? Not ’n hel, al wat hier raas is paddas en jakkalse en uile. Hy staan nog langer en luister. Maar dit is nou stil, miskien het hy hom verbeel. Sy skoene knars op die gruis voor die agterdeur. Hy hardloop oor die kaal erf na die bakkie voor die stoor se groot skuifdeur. Sy het gesê hy moet die ou Hilux gebruik wanneer hy klaar is. Die bak, sien hy nou, het ’n vrag wat met ’n seil toegegooi is. Daar is nie nou tyd vir aflaai nie, hy moet eers net wegkom. Soos sy gesê het, is die sleutel in die skakelaar. Op die sitplek lê ’n voos ou kakiekleurige reënbaadjie; die naglug is koud en hy trek dit aan. Dit is asof hy die ou man aan die baadjie kan ruik – sweet, pyptwak en diesel. Agter hom staan die ou huis in ligte laaie, die droë oregonplanke van die vloere en die plafonne het vinnig vlam gevat, rook borrel reeds by die vensters uit en hy sien die vuurgloed agter die ruite. Dan tref dit hom: die seun! Die mannetjie met die witkop op die foto … Is hy nog in die huis? Dalk lê hy ook iewers met ’n gat in die kop, of nog erger: Dalk slaap hy in sy bed en is die rook en vlamme reeds by hom in die kamer. Dan is hy wat Charlie is, verantwoordelik en dit is nie sy styl nie. Grootmense, ja, hulle verdien dit gewoonlik en hy word daarvoor betaal. Gewoonlik het hulle gesteel of hul vrouens verneuk, of so iets. Kinders is onskuldig en verdien nie sulke stront nie! Charlie hardloop terug. Die kombuis is in ligte laaie, daarlangs kan hy nie. Hy hardloop na die voorkant waar hy vermoed die slaapkamers is. By ’n venster waar die vlamme nog nie gekom het nie, breek hy die glas met ’n baksteen. Diefwering is gelukkig net voor die vensters wat kan oopmaak aangebring. Hy klim deur die gat, en deur die rook wat onder die deur inborrel kan hy vaagweg ’n bed onderskei … leeg! Hy skree die donkerte in, roep na die seun wie se naam hy nie ken nie, of enige iemand wat kan hoor. Skree sommer, ook om die vrees uit sy lyf te kry. Fok! Hy ruk die gangdeur oop, skielik is daar vlamme in die kamer. Hy kan voel hoe sy klere en hare begin skroei en ’n hoesbui oorval hom. Charlie hardloop terug na die oop venster, struikel oor ’n stoel, kruip verder en val deur die gat wat hy met die baksteen in die ruit gemaak het. Buite is die lug koel op sy natgeswete gesig, die rook nog brandend in sy longe. Hy hardloop blindelings van die vlamme af weg terwyl hoesbuie uit sy longe ruk.
Agter die dik stam van ’n groot bloekom kom Charlie tot stilstand. Die vlamme peul nou by al die vensters uit en hy besef dat as daar nog iemand in die huis was, is dit te laat. As die seun nog lewend daar was, is hy wat Charlie is, sy moordenaar. Hy hardloop wyd om die hittestraling tot by die bakkie. Die ou dieselenjin karring ’n ruk voor hy vat. By die hek huiwer hy: links of regs? Die witkop het gesê links, Volksrust toe, dis nader, maar dit is soos sy dit beplan, het natuurlik. Of nie? Sy sal weet dat hy teen hierdie tyd van haar gekonkel bewus is; dalk wil sy eintlik hê hy moet regs, in Vrede se rigting. Te hel daarmee! Die eerste ding is nou om weg te kom van die plaas af. In die truspieël kan hy die vlamme by die ou huis se dakplate sien uitlek. Die bakkie is ’n kans wat hy vat, maar hy kan nie in die nag op hierdie sinkplaatpad voetslaan nie, nie met hierdie heup van hom waarin ’n skietbedonnerde poot se koeëlpunt nog sit nie. Hy draai die ou Toyota se neus in Vrede se rigting, sonder om die ligte aan te skakel. Daar is twee dinge aan sy kant: Die helder maan maak ligte nie nodig nie, en hy is seker die pote sal nie sonder ligte ry nie. Hy sal hulle sien lank voordat hulle hom sien. Op die bult hou hy stil en luister vir die gedreun van ’n motor, klouter selfs op die gemors onder die seil agter op die bak en kyk lank na waar die grys pad oor ’n maanverligte bult verdwyn. Hy klouter weer af en lig die seil. Dit is allermins gemors: ’n televisiestel, radio’s, dekodeerders … dit is seker veronderstel om sy buit te wees as die pote hom stop. Hoe de hel gaan hy dít aan ’n dom poot verduidelik? Die woede dat hy bedonner is, wel suur in sy keel op. Wat vir ’n vrou huur iemand om van haar onkapabele ou man ontslae te raak, en doen dit dan self, en sommer vir ’n encore ook die ouvrou wat seker haar skoonma was. En waar is die seun? Het sy hom ook geskiet, of het hy wat Charlie is hom laat doodbrand in die huis? Sy het hom nie by haar gehad toe sy hom opgelaai het nie, dalk is hy in die koshuis iewers, Volksrust of dalk Vrede. En sy geld? Daar was fokkol in die kluis. Die negeduisend wat sy hom skuld, is vir hom ’n fortuin, genoeg om oor te begin, die tronk se stank uit sy neus te kry. Maar iewers, eendag sal hy haar wel kry, nou moet hy eers ’n tyd lank verdwyn, wegraak iewers op ’n stil plek. Mense se geheues is kort, hulle sal vergeet wat hier agter hom in die huis gebeur het. Daardie teef sal hy egter nie vergeet nie …
sy skuld hom geld. Maar die laaitie … dit het hy nog nooit gedoen nie, maak nie saak wat die geld is nie. In die tronk werk hulle hard met jou as jy kinders vermoor het, totdat jy Sarie Marais deur jou agterent kan fluit, sonder enige hoë note.
4
Toe Charlie teenaan die pad swart bome sien en ’n plaashuis se dak wat in die maanlig blink, hou hy stil en klim uit. Al wat hy nou nodig het, is ’n vent met ’n los maag op pad na ’n longdrop, of wat om die een of ander rede in die nag op die plaaswerf rondloop en dan die bakkie sien. Met al die skaapstelers wat deesdae die boere hel gee, sal elke poot, plaaswag, kommandolid, of wat hulle ook al in hierdie wêreld gebruik, baie gou van hom weet. Agter sy rug kan hy teen die oosterkim nog die rooi gloed van die brandende huis sien. Voor hom, net anderkant die plaashuis, loop die pad af na ’n nou brug oor ’n blink stroom water. Volksrust, weet hy, is in die goeie ou skyt-en-betaal Transvaal en Vrede is in die Vrystaat, so iewers moet daar ’n grens wees. Nie sommer net ’n streep op die kaart nie, onthou hy, maar ’n regte egte grens. Daardie blink stroom water dáár onder by die brug moet dan die Kliprivier wees. Dis altans wat die ou vrou gesê het wat die aardrykskunde by sy agterent probeer infoeter het. Hoekom onthou hy hierdie stront? Seker omdat hy ook kan onthou dat sy pa in ’n nugter oomblik gesê het die onderwyseres is van haar trollie af: “Die grens is die fokken Vaalrivier, Charlie! Dit is waarom ons in die ou dae gepraat het van die Trans-fokken-Vaal; anders was dit mos die Trans-fokken-Klip!” Pa het ’n manier gehad met die taal, veral as hy gesuip was. Dit het vir hom ook sin gemaak, maar daai ou vrou was naby genoeg om sy ore warm te klap; Pa was toe al weer ver weg in die Zonderwater-tronk. In die nagstilte kan hy die gemurmel van die rivierwater oor die klippe hoor. Aan die ander kant van die stroom begin twee kiewiete luidkeels protesteer – iets moes hulle opgejaag het. Vanuit die plaashuis se rigting blaf ’n hond vakerig en ’n koei roep weemoedig na haar kalf. Die rante in Vrede se rigting lê helder en skerp afgeëts in die maanlig, en ver daaragter is ’n dreigende wolkbank vol weerlig, te ver om die donderweer te hoor. Dit is ’n idilliese en rustige prentjie wat Charlie ’n oomblik laat vergeet waarin hy hom bevind, hom laat verlang na ’n rustigheid wat hy nooit in die ou sinkhuis langs die treinspore geken het nie. Ná sy ma se verdwyning met die boekesmous
het sy pa ernstig begin suip. Om te vergeet, het hy gesê. Die probleem is net dat daardie klas van lewe geld kos, en as jy nie werk nie, moet jy steel vir die voorreg. Pa was ’n slim man, in ’n stadium die jongste stasiemeester in die Karoo, maar hy kon nie slim genoeg steel nie en het sy werk verloor. Pa was ook nie juis ’n skelm genoeg daggaboer nie, en in die tronk het die vigs hom opgevreet. Die veraf gedreun van ’n voertuig laat Charlie sy kop opruk. Drie bulte verder, in Vrede se rigting, sien hy dan ook die vinnig naderende hoofligte. Pote! Dit kan net hulle wees wat hierdie tyd van die nag so sal rondjaag op hierdie verlate pad. Hy moet die Hilux uit die pad kry en vinnig ook. Witkop sou vir hulle ’n beskrywing van die bakkie gegee het en op hierdie stuk pad kan hy nou nie juis onopgemerk verbysluip nie. Die bakkie, die vrag met die seil oor en die stil pad laat hom hoeka soos ’n daggasmous of ’n skaapsteler lyk. Charlie dink aan die pad soos hy gekom het. Daar is nie ’n plek om iets soos ’n bakkie in hierdie helder maanlig weg te steek nie. Dalk oorkant die rivier; hy sal die kans moet vat, daar’s nie nou tyd om te soek nie, al moet hy die bakkie tussen die dekgras in die wenakker los en die veld inhardloop. Vang sal hulle hom wragtig nie weer nie, al moet hy die pistool gebruik – nie met die moontlikheid dat die seun in die huis verbrand het nie. Die pote is geneig om varke te word as jy ’n kind seermaak, dit is asof al hulle vaderlike hormone skielik op aandag staan en vergelding soek. Hy sit die Hilux in rat en ry teen die skuinste af na die nou staalbrug. Te hel met die vent met die los maag, hopelik skyt hy in sy pajamabroek en vergeet om te bel oor die bakkie vol smokkelaars wat in die nag voor sy hek rondgehang het. Anderkant die rivier loop die pad weer teen ’n steil helling op. Aan die linkerkant van die pad sien hy ’n paar wit geboue sonder ’n heining en ’n paar bome sonder blare. Teen die muur van die grootste gebou is ou verbleikte CocaCola- en Joko-advertensieborde. Hy ry met die bakkie agter die oënskynlik verlate ou plaaswinkel in en sit die ligte af, haal die pistool uit en laat gly ’n koeël in die loop in. Dan klim hy uit en gaan kniel agter ’n paar leë oliedromme. ’n Donkerkleurige Land Rover met een insittende dreun vinnig verby, blykbaar nie gepla deur die slaggate en spoelslote in die pad nie. Vir die afdraande duskant die brug skakel die bestuurder na ’n laer rat, en Charlie kan hoor hoe die enjin se toere opjaag voordat die voertuig stadiger oor die staalbrug ratel en dan
weer teen die steil opdraande aan die anderkant uitbrul. ’n Jong boer onderweg huis toe ná ’n dop en ’n tjop by ’n pel? Of dalk het hy iewers by ’n jong onderwyseres gekuier? Dis in elk geval nie die pote nie, hulle ry nie daardie klas voertuie nie. As die witkop hulle nog nie laat weet het nie, sal hulle in elk geval aanstons weet – die boer behoort reeds die gloed van die brandende plaashuis op te gemerk het. Hy moet padgee. Die ou Hilux ruk en sy ratte knars toe hy wegtrek. Ver vorentoe, anderkant die bleek vlaktes, kan hy die rûe van hoë rante sien. Tussen die rante sal hy die pote nie kan sien voordat dit te laat is nie; hy sal van dié pad moet afkom. Aan die skadukant van ’n plat kop kry hy ’n grondpad wat links uitdraai tussen die rante in. Waarheen dit loop, weet nugter, want die groen padteken is vol gate geskiet. Maak ook nie juis saak nie, solank hy net van die ander pad afkom. Hy sal wel iewers uitkom. Die Suiderkruis hang skeef voor hom, dalk loop dié pad Memel of Newcastle toe, waar die pote hopelik nog nie na hom soek nie.
5
Charlie se ou aardrykskunde-onderwyseres was tog reg, daardie blink stroom water is die Kliprivier, en dit wás eers die grens tussen die ou Transvaal en die Vrystaat. Sy dronkgatpa was egter ook nie ver verkeerd nie, want net ’n entjie verder, suid van Standerton, sluit die Kliprivier by die Vaalrivier aan en dan is die Vaal wel die grens. Na nog ’n paar draaie vloei die Vaal dan in die groot waters van die Vaaldam in, daarna bokant Parys oor die stuwal by die Barrage voordat dit sy kronkelende slangsleepsel deur die rante en koppies van die Vredefortkoepel trek. Die twee verliefdes wat in mekaar se arms op ’n klipbank teen die rivierwal sit, stel egter nie in die aardrykskunde belang nie. Die water op die klipbank is koel oor hulle kaal voete en hulle het net oë vir mekaar en die maan wat oor ’n hoë rant aan die oorkant loer en wat ’n geel streep oor die ou rivier se water trek – dieselfde maan wat driehonderd kilometer verder oos vir Charlie die pad verlig. Om hulle lê die beboste bergwêreld van die koepel met al sy donker geheimenisse, sy kenmerkende topografie wat in die oerverlede deur vuur, swael en geweld vasgelê is. Nou skerm dit die twee verliefdes egter af in hul eie klein wêreldjie van liefde en geluk waar niks behalwe net hulle twee saak maak nie. Die vrou streel die man se gesig. “Kom ons swem,” sê sy. Hy beduie met sy duim oor sy skouer na waar ’n nuwe vakansieoord gebou word. “Die swembad se pomp is nog nie reg nie.” “Nee, stupid, sommer hier langs die klip in die rivier.” Sy lag borrelend. Hy kyk na die waar die water vlakby hul voete met ’n wit watervalletjie oor die klipbank afstort na ’n donker poel, dan na die rivier se stil, diep stroming anderkant die klippe. “Ek weet darem nie …” Hy sug. “Dis gevaarlik, veral as jy die boomstompe en die klippe en ander gemors nie kan sien nie.” “Nee, ou spoilsport!” Sy druk ’n piksoen op sy wang. “Ek het hier grootgeword, onthou. Dit was nog altyd ons swemgat dié.”
Hy kyk skepties na die water onder die klipbank. “Ons … ons het nie eens swemklere nie, kom ons los dit eerder.” Sy spring op. “Wie het swemklere nodig? Hier is niemand nie!” Sy trek haar sonrok oor haar kop en gooi dit na hom. ’n Oomblik staan sy in haar onderklere op die klipbank se rand voordat sy in die poel duik. Hy staan teësinnig op, begin sy kortbroek losknoop, hou die water dop waar sy weer moet opkom. As dit dan moet … maar hy gaan nie soos ’n mal ding sommer induik nie. Hy trek die T-hemp oor sy kop; wanneer sy opkom, sal hy met die klippe langs afklim na waar sy is. Hy wag, maar haar blonde kop breek nie weer deur die watervlak nie. Hy roep haar naam; weer ’n keer. Hy staar nou angstig na die poel, hardloop dan ’n ent teen die rivier af. Dalk het sy, om hom te verpes, ’n ent onder die water saam met die stroom geswem. Sy is ’n goeie swemmer. Hy skree weer haar naam, maar al antwoord wat hy kry, is die weemoedige geroep van ’n uil uit die donker bosse van ’n rant aan die oorkant en die geraas van die naginsekte en die paddas in die vlak water tussen die klippe en die riete langs die kant.
6
Kaptein Boeries Freislich lê met sy hande onder sy kop en staar na ’n donker plafon, ná ’n lang dag van moord en doodslag wag hy met dwalende gedagtes dat die slaap hom oorval. Dit is nie maklik om jou kop ná só ’n dag tot stilstand te laat knars nie: twee gevalle van messtekery in Thabong en ’n noodlottige aanranding met ’n gebreekte bottelnek in Bronville – al drie dwelmverwant. Heroïen, kokaïen, dagga en tik ook. Laasgenoemde is besig om ’n ál groter probleem te word, ook hier in die Goudveld. Dit maak hom bekommerd oor sy suster, Baby, wat so maklik beïnvloedbaar is. By die ou St. Helenamyn het die polisie en veiligheidswagte ook weer met mynstropers gebots. Hierdie keer het die telbord gewys: twee stropers dood en een veiligheidswag. Die onwettige mynwerkers, die zama-zamas, word nou deur die veiligheidswagte uit die myne gedryf met die gevolg dat hulle nou ou mynpersele bogronds van letterlik alles stroop. Hulle pan selfs die ou paaie vir gouderts wat gemors is in die dae van oorvloed, terwyl hulle pelle die geboue stroop van alles wat uitgebreek kan word. Skrootyster en koperkabels is amper net so lonend soos die goudstof. ’n Paar is al doodgeval deur die onstabiele mure van geboue wat vinnig verander in mankolieke murasies sonder dak of vensters of deure. ’n Kompleks wat geoormerk is vir ’n lewende mynmuseum sodat die nageslag kan sien hoe die eerste goudprodende myn gelyk het in die dae toe die Vrystaatse Goudvelde die rykste goudriwwe in die wêreld gehad het, is besig om baie vinnig afgebreek en stuk-stuk weggedra te word. Boeries vryf deur sy kort swart hare en probeer sy aandag herlei na die naggeluide in die woonbuurt. In die verte kan hy die eentonige gesing hoor van ’n reusagtige bogrondse waaier wat lug deur die ondergrondse gange en werkplekke van die paar oorblywende myne trek. Iewers ver weg kerm ’n fiftypiskriek, miskien ’n jong mynwerker of dalk ’n onsetter op pad myn toe vir ’n laatskof; miskien is daar ’n breakdown ondergronds wat nie kan wag tot die môre nie. Benewens dié geluide is Virginia se woonbuurt Merriespruit stil. Selfs die
gedoef-doef uit ’n paar motors se kattebakke by mevrou Sithole se huis laer af in die straat is nou ook stil. Haar laaitie het óf klaar verjaar óf die spul jonges het na groener suipvelde verskuif. Maar daar begin ou Keppies van hier langsaan se brak blaf, seker vir die maan. Twee kortes en ’n lange, sê sy pa. “Dis soos ’n bleddie plaastelefoon. Woef-woef … woef! Woef-woef … woef!” Sy ma reken hy blaf snags vir pa Kris se gesnork, wat volgens haar meer lawaai maak as die hond. Sy sê hy klink soos ’n bronstige leeu, net sonder die bronstigheid. Veral as hy die aand ’n paar dubbeltjies gedrink het, en dis hoeka Vrydagaand. Daar was seker weer ’n veerpyltjie- of snoekerkompetisie by die klub en die kans dat Kris Freislich heelaand net koek en tee gevat het, is nul. ’n Venster word iewers oopgegooi. “Voertsek! Bliksem!” bulder iemand die nag in. Dis sy pa, en aan die stemtoon kan Boeries hoor dat die veerpyle nie vanaand gevlieg het soos wat hy dit wou nie. Wie nie wakker geblaf is nie, is in elk geval nou wakker. Eintlik is die baster-maltesie ’n oulike klein brak met die naam Seuntjie, maar Kris noem hom Bliksem, en dit het niks te doen met Danie Craven se hond se naam nie. ’n Ruk is dit stil. Die venster word toegeklap. Dan weer woef-woef … woef. Venster weer oop, hierdie keer word die gaasskerm ook oopgeskuif. Boeries glimlag. Kris se kop is seker nie lekker nie, nie ná al die tipsietert en tee by die klub nie. Nou vir die kettie wat aan die gordynkap hang en die hoop ronde klippies op die vensterbank, hy ken al die storie. Seuntjie ook, maar hy het tot op datum nog geen littekens om te wys nie, hy skrik dus ook nie juis meer nie. Klingeling. Dis ’n venster daardie! Klink soos een van Keppies s’n. “Kris!” raas ma Stien, “kom slaap met jou dronkgat, netnou sluit hulle jou toe vir rusversteuring.” Nog ’n venster gaan oop, ’n bietjie verder weg.
“Kris Freislich! Is jy bedonnerd! Jy skiet net so vrot met ’n kettie as wat jy darts gooi. Hoekom slaap jy nie, demmit?” “Hoe de hel moet ek slaap as daardie pavement special van jou heelnag vir sy gat sit en blaf? Ek werk môre, ek lê nie soos jy by die boilershop heeldag met ’n spênner onder ’n fokken loco en slaap nie!” “Dis môre Saterdag, jou dom donner! Jy werk nie. Al wat jy môre gaan doen, is om hierdie venster te kom regmaak, of ek bel die poelisie.” Seuntjie, alias Bliksem, moes agtergekom het daar word van sy herkoms geskinder en storm die draad met sy volle repertorium. “Te hel met jou! Maak eerder daardie brak van jou stil of ek blaas hom met die nine mill.” “Wat jy waar kry?” Boeries wonder self waar sy pa ’n negemillimeter gaan kry. Al wat hy het om mee te skiet, is die kettie en ’n ou BSA-windbuks met ’n pap veer. Die venster klap hard toe en die skerm word met ’n harde klap afgeskuif. Seuntjie raak mal. Keppies skree op die hond om na sy kassie toe te gaan. Stilte daal weer op die buurt neer. Boeries draai tevrede op sy sy, maak sy oë toe. Maar dan vibreer sy selfoon op die kassie voor sy bed. Hy kantel sy Timex na die lig wat van die straat af deur die gordyne skyn: halftwee. Wat de hel? Die selfoon se skerm sê dit is Baby. Sy’s veronderstel om in haar kamer te wees, vas aan die slaap. Hy klap die foon oop. “Kom haal my.” Baby praat sag met ’n bewerige, bangerige huilstem. In die agtergrond kan hy die lawaai van luidrugtige musiek en ’n klomp jong mense hoor wat klink of hulle te veel gesuip het. Harde woorde word heen en weer geslinger. “Is jy nie veronderstel om in jou kamer te wees nie? Pa slaan jou gat warm.” “Kom haal my net, Boeries.” Baby snik nou. “En … en moet nie vir Pa sê nie,
asseblief.” “Waar’s jy?” “In Harmonie.” Baby gee Boeries die adres. Hel, Harmonie is anderkant die Sandrivier! “Hoe de donner kom jy daar, my magtig, jy weet …” “Boeries,” haar stem het ’n dringendheid wat hy nie ken nie, dit is asof hy die onderlippie kan sien bewe soos in die ou dae as sy seergekry het. “Kom haal my net, asseblief. Ons kan later praat.” Pouse. “Kom met Ma se kar.” As hy nie met sy Kawa moet gaan nie, weet hy uit ondervinding, is daar ander bagasie ook, wat nie kan loop nie.
7
Boeries haal sy ma se ou Datsun Trippel-S se sleutel sag van die haak in die kombuis af. Baby se stemmetjie laat dit klink asof dit ’n saak is waarvan die ou mense so min moontlik moet weet. “Boeries …” Dis sy ma wat sag uit die kamer uit praat. “Waarheen gaan jy nou?” Sy mis nie baie nie. “Polisiesake, Ma. Ek ry sommer met die Datsun.” Dit is nie heeltemal ’n leuen nie. Sy antwoord nie; sy is seker tevrede. Die volmaan maak die omgewing ’n swart-wit landskap. Kris was verkeerd, Bliksem het nie vir sy agterent geblaf nie, maar vir die maan en sy spookskaduwees. Ver na die ooste lê wolke waarin die weerlig baljaar; dit gaan vannag iewers in die Oos-Vrystaat reën. Boeries dink aan die dae toe hulle as gesin gaan geelvis vang het in die bo-lope van die Kliprivier, anderkant Vrede op oom Koos de Jager se plaas. Toe hy uit Merriespruit in Sandrivierweg opdraai, lê die vlei wit aan sy regterkant. Dit is hier waar die gebreekte slikdam in 1994 sy giftige sianiedmodderverwoesting in die woonbuurt gesaai het. Nou is daar weer biesies, tamariskbosse en riete wat probeer om die steriele naaktheid te bedek wat die verwoesting nagelaat het. Baby is daardie nag saam met haar teddiebeer en die een helfte van hulle huis deur die stroom modder meegesleur. Pa Kris sê dit was die begin van haar stront, want sedert oom Cassie die volgende môre toe die son rooi opkom met haar en die teddie in sy arms uit die grys klewerigheid gestap gekom het, het die Merriespruiters tou gestaan om haar te bederf. Die foto van die grys standbeeld in die grou môrelig met die modderbesmeerde dogtertjie in sy arms en die verwoesting agter hulle was in omtrent elke koerant in die land. Die klein blondekoppie met die diep kuiltjies en die onnutsige blou ogies was vir die buurt se mense ’n simbool van oorlewing en van God se genade. Baby het steeds die blonde hare, die kuiltjies en die blou oë, maar dis wat bygekom het en wat die jongetjies se oë soos magnete trek wat vir Kris Freislich grys hare gee.
Voordat Boeries opdraai in Harmonie se rigting dreun die Datsuntjie oor die Sandrivierbrug. Die sluise van die Allemanskraaldam is oop, want die modderige water van die rivier loop kant en wal. Pa Kris sal nie gou weer onderkant die brug kan visvang nie. Gawie Theronstraat is boomryk en loop ewewydig aan die rivier. Aan die rivier se kant van die straat is die huise groter en luukser as die ouer huise aan die oorkant van die straat. Voor nommer vyftien staan ’n paar motors en 50 ciskrieke, ook ’n paar groter motorfietse. Elke lig in die huis brand, en ’n oorverdowende musieklawaai bulder by die deure en vensters uit. By die voorhek sit twee jong manne op motorfietse en rook. Hulle hou Boeries agterdogtig dop wanneer hy met die ou Datsuntjie stilhou. Boeries haal die wielyster onder die sitplek uit voordat hy uitklim. Hy ken die tekens. Geen motor van sy pa is ooit sonder ’n “tyre lever onder die seat” nie. Sy pa reken ’n mens weet nooit wanneer jy onskuldig in die dinges sal trap nie, en dan het jy iets soos ’n tyre lever nodig. Hy noem dit die “equaliser” in enige geveg. Boeries stap nader en ruik die soet reuk van dagga. Die jonge op die swart Harley met die chroom-modderskerms het ’n swart T-hemp met die een of ander logo op die bors, ’n nou denimbroek en ’n paar skerpgepunte slangvelstewels aan. Sy kop is kaal geskeer en dit blink in die lig wat van die huis af skyn. Hy lyk ook na die intelligentste van die twee. Die een op die rooi Honda is ’n klein maergat met ’n leerbaadjie, ’n slegte vel en ’n lang, dun nek. Hy het ’n paar rustelose oë wat te na aan mekaar sit in die klein koppie. Saam met sy groter pel is hy vol bravade, en die springmes wat hy aan ’n blink ketting sit en rondswaai, dra seker ook by tot sy dapperheid. Boeries druk die plat yster buite sig teen sy bobeen vas. “Ek soek vir Baby Freislich,” sê hy sag. Die twee op die motorfietse bekyk hom krities op en af, kyk dan na mekaar. Miskien was dit die ou los sweetpak wat hy ná Baby se oproep aangetrek het, of dalk het die dagga en die halwe bottel Red Heart op die Harley se petroltenk gemaak dat húlle nie die tekens van moeilikheid kon sien nie. “Fuck off. This is a private party and you are not invited,” sê die kleintjie. Hy is teen alle verwagtinge in, en sy klein koppie ten spyt, die twee se segsman.
Miskien was dit die dag se geweld, miskien die feit dat hy nie geslaap het nie, of dalk sy moerigheid oor Baby se losgatdinge, maar Boeries is skielik nie lus om met puisiegesig en kaalkop te argumenteer nie. “Hierdie stuk yster sê ek is invited, likkewaankop,” sê hy terwyl hy tussen hulle inloop. Die equaliser sukkel nie juis met die Harley se voorlig nie, maar die kenmerkende geluid van ’n oopspringende springmes moes Boeries se korrel ietwat befoeter het, want die Honda kry net ’n diep duik in die ligskerm. “Hei, jou bliksem, is jy fokken mal?” skree die kleintjie terwyl hy van die motorfiets afspring. Hy hou die mes te hoog om ’n werklike bedreiging te wees. Dis darem wonderlik, dink Boeries, hoe ’n man oorslaan na jou moedertaal as jy kwaad word. “Hey, you fucking big ape! Are you mad?” volg die grote die kleintjie se voorbeeld. Hy moet wel Engelssprekend wees. Hy gryp die Red Heart-bottel, slaan die boom teen die hekpaal af en volg die kleintjie tussen die twee motorfietse deur. Gelukkig vir Boeries staan die twee fietse te na aan mekaar vir ’n volle frontaanval. Die kleintjie moes op sy dag ’n swaardvegter gewees het, want hy storm met die mes as ’n verlenging van ’n reguit stywe arm op Boeries af. Sy voorarm maak ’n siek klapgeluid as die yster albei die armpype breek. Die mes val uit sy pap vingers en hy raak soos ’n maervark aan die skree en sak op sy knieë neer. Boeries se oë flits na die grote, en glimlag as die ou lootspeletjie deur sy kop flits: Tjoeng, tjang, tjeng! Yster is harder as glas, ek wen. Grote het vasgesteek en skielik besluit hy sit dié ronde uit – hy ken moeilikheid as hy dit sien. Hy los die bottelnek en staan met sy oop hande in die lug voor sy gesig en skud sy kop. “I’m easy, you’re the man.” “Kom ons probeer weer,” sê Boeries. “Ek soek vir Baby Freislich.” Kaalkop beduie met sy duim oor sy skouer na die huis. “On the patio when I last saw her.”
Boeries hou vir Baby uit die hoek van sy oog dop. Sy sit inmekaargetrek teen die motor se voordeur, haar bene, wat onder ’n heeltemal te kort mini uitsteek, onder haar ingevou op die sitplek. “Hoe’t jy uitgekom?” vra hy. Stilte. “Ek vra …” “Ek hoor jou!” Sy vee ergerlik ’n paar blonde haarslierte uit haar rooigehuilde oë en blaas haar neus in ’n opgefrommelde snesie voordat sy vererg vra: “Waaruit gekom?” “Baby, moet nie met my gharra nie! Ek is omtrent al wat tussen jou agterent en Pa se mynbelt staan. Uit jou slaapkamer, demmit.” Boeries verminder spoed by die draai voor die sirkel by die brug, flits ligte vir ’n voertuig wat nie sy ligte domp nie. “Toe ek laas nag by die huis kom, het Ma gesê jy slaap al. Hoe het jy uitgekom?” Sy kyk smekend na hom. “Jy sal nie vir Pa sê nie?” “Baby …” “Belowe eers.” “Oukei, oukei! Ek belowe.” Baby beduie met ’n ruk van haar kop na die slapende figuur op die agterste sitplek. “Cecil het die diefwering los gegrind laas Saterdag toe Ma-hulle by die klub was. Net kougom hou dit nou in plek.” “Magtig, Baby!” Boeries loer in die truspieël na Keppies se swartkopseun wat oopmond op die agterste sitplek lê en snork, ’n nat, suurstinkende kol op sy hemp. Cecil! Is dit sy naam? Dis die eerste keer dat hy iemand hom iets anders hoor noem as Keppies se oliekop-laaitie. “Wat het hom oorgekom?” Baby sit by die kantvenster en uitstaar, draai ’n haarlok om haar vinger voor sy afsydig antwoord. “Te veel gesuip … Daar was boom ook.” “Ja, en jy? Seker net gesit en kougom kou. Of het jy ook …”
Sy hoor hom nie, kyk net afgetrokke na die rivier wanneer hulle oor die brug ry. Ná ’n ruk sê sy: “Hulle het goed wat soos kristalle lyk in ’n ou gloeilamp met ’n kersvlam warm gemaak en die dampe gesnuif.” Tik! Boeries kyk bekommerd na haar. “Het jy ook gesnuif?” “Hu-uh! Hulle wou my dwing, toe bel ek jou.” “En die dagga?” vra hy meedoënloos. Sy antwoord nie. “Baby, demmit …” Baby knik terwyl sy by die kantvenster uitstaar. “Net ’n paar trekke,” sê sy sag. Boeries skud sy kop. “Verdomp, Baby. Julle speel met vuur. Daardie kristalle is tik, dis hel op wiele. Jy moet wegbly van die goed, én die boom ook. Of ék foeter jou self!” Hy bly ’n ruk stil, tot hulle in hulle straat in Merriespruit opdraai. “En jy en die moegoe van jou hier agter sorg dat daardie diefwering weer vasgesweis word. Pa-hulle gaan volgende week op verlof en hulle dink die huis is beveilig met diefwering. Dis bleddie gevaarlik!” Hy bly ’n rukkie stil nadat hy stilgehou het, kyk dan na haar. “Ek dink jy moet nou maar eers weer deur die venster klim, anders gaan Ma jou hoor.”
8
Dit is nou stikdonker, die maan is weg. Boonop werk die ou bakkie se ligte nie en Charlie het nie ’n benul waar hy is nie. “Jy moet van die pad af kom, Charlie,” prewel hy by homself. “Wat jy nou doen, is gevaarlik, jy kan bokkerol sien.” Hy is bang hy ry van die pad af wat dofweg voor hom lê; wie weet watse gate en slote en rotse wag langsaan. Die skielike rukwinde wat ’n rukkie terug die storm se koms aangekondig het en die seil op die bak losgeruk en saam met rolbosse en droë mielieblare en stof die nag in laat verdwyn het, is nou stil. “Charlie, my maat,” bly hy homself moed inpraat, “jy moet jou joppies maar eerder in die stad doen. Daar waar jy die wêreld ken, hier vreet die leeus jou nog op.” Die wind het die wolkbank vinnig nader gebring. Minute gelede het dit nog flitsende wit aambeeldkoppe ver agter die horison uitgestoot; nou het dit voor die maan ingeskuif en die geluidlose elektriese storm van netnou is nou ’n kakofoniese, blitsende tirade. Charlie karring weer met die lig se skakelaar; dit flits momenteel aan en dan verdwyn die lig weer. “Kom nou, kom nou …” Hy karring ’n slag onder die paneelbord, vroetel aan ’n spul drade wat daar hang en gee die stuurstang ’n harde klap. “Demmit!” skree hy die nag in, en dan is daar lig. In die skielike helderte blink ’n trop skape se oë langs die tweespoor – altans, hy hoop dit is skape! Dit is dalk ’n trop bloeddorstige leeus, of honger krokodille of dalk selfs seemonsters. Hy wat Charlie is, het verdwaal, heeltemal en in sy moer in. Die pad waarop hy nou is, is niks meer as twee wit strepe deur die veld nie, en hoe hy daarop beland het, weet hy nie, want die ou Hilux se ligte het ’n lang ruk nie gewerk nie. Die bleddie dieseltenk is ook feitlik leeg, en dit is diep platteland hierdie. Met behulp van die weerlig wat onophoudelik flits en soms die omgewing helder verlig, kruie hy voort op die tweespoor, bewus van donker, hoë rante en heuwels weerskant. Wat kan hy nou anders doen as om aan te hou ry? Waar hy vandaan kom, het lankal verdwyn in die donkerte van die nag, en waarheen hy op pad is,
weet die hel alleen. Vir al wat hy weet, neuk hy nog in die see in as hy ver genoeg oos ry, of ten minste teen die kranse van die Drakensberge af. Die wolke het ook die Suiderkruis laat verdwyn en hy het nie ’n idee van die rigting waarin hy beweeg nie, nou ry hy maar tot die diesel opraak. Dit is beter as om stil te sit en te wag vir iets om te gebeur, en hoe verder hy van die brandende plaashuis af kom, hoe beter. Die onweer flits en rammel onophoudelik, word net soms onderbreek deur ’n harde slag en ’n weerligstraal wat blou vonke uit die rotsagtige rante langs die pad slaan. Groot druppels begin plof op die ou bakkie se voorruit, en dan verdwyn alles plotseling om hom in die stortreën. Hy klap ’n hefboom teen die stuurwiel af, die ruitveërs begin sonder veel sukses klap-klap en skree oor die voorruit, want daar is nie meer veel rubber aan hulle nie. Die Hilux se linkervoorwiel stamp deur ’n diep slaggat, die ou voertuig swaai na links uit die twee spore, die stuur ruk uit Charlie se hande en hulpeloos voel hy hoe die bakkie in die donker deur die lang gras teen ’n skuinste af stamp, deur ’n sloot bokspring en dan met ’n harde slag teen ’n groot rots tot stilstand kom. Die enjinkap spring oop, ’n pyn skiet deur Charlie se borsbeen – daar is nie ’n veiligheidsgordel wat kon keer dat sy bolyf teen die stuurwiel vasgestamp word nie. Die vrag op die bak ruk los en slaan teen die stuurkajuit vas, ’n televisie vlieg oor die dak en teen die oop enjinkap vas. Die bakkie se enjin het gevrek, stoom borrel onder die kap uit en die warm metaal tik soos dit afkoel onder die reëndruppels. Weerlig dans op die rante; Charlie sien hoe dit sy hande bleekblou verlig en hy laat sak sy kop op die stuurwiel. Fok. Hier sit hy, die gevreesde Twostep Charlie, op ’n onbekende en faktap pad iewers in Suid-Afrika in ’n opgefokte skorro-skorro van ’n bakkie, met die weerlig wat dooierus vat op enigiets wat beweeg, of nie beweeg nie. Die witkop sit seker nou met ’n langsteelglas en verlekker haar oor die dom donner wat ’n kontrak gevat het vir ’n sluipmoord wat sy in any case self klaar gedoen het; hy moet net sonder betaling die blaam kom vat. Charlie maak sy oë toe. Sy skuld hom, maar daar’s niks wat hy nou in dié reën kan doen nie. Hy hoop die seun is by haar, of waar ook al, solank hy net veilig
is. Die outoppies met die swart jasse en die wattekadotjies op die kop hou nie van skarminkels wat kinders aan die brand steek nie. Afgesien daarvan, hy wat Charlie is hou nogal van kinders, hy kom goed met hulle klaar. Kinders vra nie of jy in die tronk was en waar jy grootgeword het nie, as hulle van jou hou dan maak sulke dinge nie saak nie.
9
Charlie word met ’n ruk wakker … Dis ’n helikopter wat so lawaai! Hy kyk vervaard om hom rond. Die reën het opgehou, maar dit is nog bewolk; die nag is donker sonder enige teken van sterre. Dan sien hy dit: in die kantspieëls die flitsende ligte van die helikopter wat bokant die tweespoorpad hang, met ’n soeklig wat soos ’n blink naald in die veld rondpriem. As hulle spore soek, mors hulle hulle tyd, die reën het daarvoor gesorg. Charlie hou die bewegings in die truspieëls dop. Dit kan net die pote wees. Hoe de hel het hulle so vinnig op sy spoor gekom? Die spul hier in die diep platteland is veronderstel om nog met perde en motorfietse te ry, nie bleddie helikopters nie. Hy moet wegkom! Die deur aan sy kant is gebuig deur die stamp teen die rots; die een aan die asierskant het weer nie ’n handvatsel nie. Hy draai die venster oop en seil deur die opening, lê ’n ruk stil in die nat gras voordat hy opspring en gebukkend deur die lang nat tamboekiegras die nag in hardloop, weg van die pad en die ou Hilux en die geklop van die helikopter se rotors. Hy struikel oor klippe en miershope wat hy nie in die donkerte en in die welige gras kan sien nie, slaan neer, strompel regop. Charlie weet hy moet so ver moontlik van die bakkie wegkom, maar die pyn in sy heup maak dit nie maklik nie. Hy hink-hink gebukkend; elke asemteug soos ’n warm yster in sy bors. Hy vermoed die stuurwiel het van sy ribbe gebreek, of sy borsbeen gekneus. ’n Doringtak krap deur sy gesig, ’n paar kiewiete vlieg skellend onder sy voete uit, vlieg om hom, duik op sy kop af – hopelik verdoof die lawaai van die helikopter die geskree van die voëls. Sy asem jaag en sy hart klop in sy ore, maar hy hoor tog die uitroepe agter hom – hulle moet die bakkie gekry het. Charlie kan voel die grond word steiler onder sy voete, hy moet nou teen die helling wees van die groot rant wat hy teen die gesigseinder kon sien lê voordat die reën om die Hilux toegesak en hy in die sloot ingeneuk het. As hy opkyk, kan hy teen die wegdrywende wolke waarin die weerlig nog af en toe flikker die donkerder profiel van die rant sien.
Die helling word skielik baie steiler, en los klippe wat hy raak trap, rol teen die skuinste af; hy begin hande-viervoet kruip. Naby die kruin gly sy voete op die ronde los klippe; hy probeer met sy hande keer, maar beland met sy seer heup op ’n skerp klip. ’n Verlammende pyn skiet deur sy heup en die hele linkerkant van sy lyf, maak dit vir hom onmoontlik om op te staan. Agter hom raas die helikopter; dit is nou by die Hilux, sien hy, die soeklig swiep deur die veld. Charlie weet hy sal van die skuinste moet afkom. As hulle die helikopter se motor stop en net luister, sal hulle hom gou hoor – die rollende klippe en die lawaai van die kiewiete sal sy posisie verklap. Hy probeer opstaan, kry dit nie reg nie, daar is geen krag in sy been nie. Sy soekende hande kry ’n wortel van ’n bos beet en hy trek hom boontoe. Met sy laaste bietjie krag kruip hy oor ’n rotsrif tot bo-op ’n plato. ’n Ruk lê hy op sy rug om sy asem terug te kry en om sy heup en been kans te gee om weer lewe te kry, as dit ooit weer sal. Hy sien hoe lae wit wolke vinnig onder die donker reënwolke verbygejaag. Fok, hy’s nie hiervoor aanmekaargesit nie! Onder by die pad kan hy in die soeklig se lig figure om en op die Hilux sien rondsoek. Hy sukkel regop en begin strompelend oor die plato hardloop, weg van die lawaai wat die spul daaronder maak. In die halflig sien hy ’n groot klomp rotse en klippe tussen die gras. Hy sal ’n plek moet kry om weg te kruip, ten minste totdat dit lig genoeg is om te sien waarheen hy op pad is, anders gaan hy in ’n gat neuk of homself flenters hardloop teen ’n rots of ’n ding wat hy nie kan sien nie, of dalk aan die ander kant van die plato afneuk. Hy is nou naby die rotsagtige oorkantse rand van die plato; in die ooste begin die lug reeds rooi verkleur. In die grou lig sukkel hy aan op die platorand. Hy moet ’n plek kry om af te klim, maar hier val die rotsrand meer as vyftien meter loodreg na onder. Rimrock country, noem die cowboys dit in die gehawende Louis L’Amour-boeke wat hy in die tronk gelees het. In daardie boeke was daar altyd ’n plek waar selfs ’n man te perd kon afgaan, hy moet net soek. Dan kry Charlie ’n skeur in die rotsrand en hy syg op die grond neer. Met elke asemteug raas sy bors. Die pyn in sy heup en die miltsteek in sy sy is ondraaglik. As ’n man ses jaar in die tronk gesit het, is jou lyf nou wragtag nie juis in ’n toestand om in die nag aan veldwedlope oor berge en dale en oor klippe en rotse deel te neem nie.
Die skeur bied wel ’n moontlikheid om van die plato af te kom. Die helling in die skeur af is skuins en loop soos ’n glybaan tot waar ’n doringboom jare terug wortelgeskiet het. Deur die jare moes voëls allerlei sade vanuit die takke laat val het, want dit het weer wortelgeskiet en nou is die doringboom se stam omring deur doringagtige bessiestruike. Dit is waarom Charlie nie verder ondertoe as net tot by die boom kan sien nie. Die son het intussen sy rooi gesig bo die oosterkim begin uitsteek, en die grassade en kruine van die hoër rante na die weste is in ’n oranje gloed gehul. Hy moet hier wegkom! Agter hom hoor hy die toere van die helikopter se motor versnel, hulle styg seker weer op. Daar is nou geen ander uitweg nie, hy sal net in die skeur móét af, op hierdie kaal plato staan hy uit soos ’n puisie op ’n vark se agterent. Charlie klim versigtig in die skeur in, verloor sy balans op die los klippe en gruis wat deur die jare hier moes ingespoel het. Sy voete gly onder hom uit en die eerste paar tree af na die boom se stam toe gly hy op sy sitvlak in ’n stroom van klippe en dassiemis en dooie doringtakke teen die steil helling af. Dan kry die klippe momentum en dit word ’n rotsstorting in die kleine. Charlie gryp die stam van die boom krampagtig met albei arms vas, skop met sy voos tekkies teen die rotse tussen die bessiebosse vas om te keer dat hy saam met die gemors oor die afgrond onder die boom aftuimel. ’n Groot voël wat bo in die boom sit en slaap het, flap sy vlerke en verdwyn in die dieptes af. Onderkant die stam is daar ’n vertikale val van tien meter wat Charlie van bo af nie kon sien nie. Hy loer terug na van waar hy op sy agterent afgekom het. Sonder ’n tou en hulp van bo gaan hy nie weer dáár uitkom nie, en ondertoe nog minder – tensy hy vinnig leer vlieg of bereid is om hom vrek te val op die rotse daar onder. Hy hoor die helikopter naderkom, dink daaraan om die pistool uit sy belt te haal, maar dan moet hy die boomstam los. Die geluid word ál harder totdat dit stadig oor die skeur beweeg. Dit is nie ’n polisiehelikopter nie – hulle vlieg nie met rooi helikopters sonder polisiekentekens nie. Dalk van die boere in die omgewing wat van die ongeluk met die bakkie gehoor het en kom help? Maar hoe het hulle daarvan geweet? Dalk ’n beeswagter wat gesien het wat gebeur het? Dit sal beter wees om van die pistool ontslae te raak; almal weet ’n man met ’n pistool in sy broek is ’n skarminkel. Terwyl hy met die een hand aan die boom se onderste tak vasklou, trek hy die skietding uit sy belt. Hy wil die .22 verby die
boomstam in die dieptes afgooi, maar bedink hom. Dit gaan teen sy grein in om ’n goeie, bruikbare vuurwapen sommer net weg te gooi, ’n mens weet nooit, dalk eendag … So onmoontlik en simpel as wat dit klink. Reg voor Charlie is daar ’n gat of skeur in die rotswand waar daar lank terug ’n stuk rots moes uitgebreek het. Die spiere in die skouer waaraan hy hang, wil uitskeur as hy oorleun. Hy knyp die skurwe boomstam met die knieë vas – sy heup skree om genade! – trek die ou reënbaadjie wat hy in die Hilux gekry het uit, draai die pistool daarin toe en druk dit so diep moontlik in die gat in. Die helikopter hang nou reg bokant die skeur. Charlie kyk op; sien ’n man met swart klere wat met ’n megafoon voor sy mond by die deur uithang. “Sit fokken doodstil,” kom ’n stem blikkerig deur die rotors se lawaai. “As jy jou gat roer, gaan jy jou fokken nek breek.” Die taal is nou ook nie juis dit wat ’n man van ’n poot verwag nie, in elk geval nie as hy aan diens is en met ’n slagoffer in nood kommunikeer nie. Die boere wat hý ken, praat ook nie so nie, behalwe die boere in die tronk, maar hulle was tronkbewaarders en het nie koeie gemelk nie … “Sit net stil,” kraak die blikstem weer, “ons is nou terug. Moet nie beweeg nie.” Simpel bliksem! Waarheen dink die vent kan hy nou gaan; hy klou soos ’n neet aan ’n boomstam tussen niks en nêrens met ’n moerse afgrond onder hom. Charlie hoor hoe die helikopter op die plato land, hoe die toere van die motor afneem. Ná ’n ruk val ’n tou met ’n lus vooraan langs hom in die skeur af. ’n Paar los klippe kom saam met die tou, verdwyn oor die afgrond en Charlie hoor hoe dit ondertoe op die rotse kletter. “Maak die ding om jou lyf vas!” roep die stem. Dit is nie só maklik nie! Charlie vat die lus met die een hand vas terwyl hy met die ander arm aan die stam vasklou en teen die rotse vasskop. Toe die lus oor sy kop en onder sy arms vas is, skreeu hy boontoe: “Is die ding vas daar bo?” Daar is nie ’n manier dat hy alles net so los, met niks onder hom en net ’n maer babelaas polisiemannetjie aan die ander kant nie. “Ja!” weergalm die megafoon se blikstem in die skeur af.
Fok, dink die bliksem hy is doof? Die chopper se lawaai het mos nou opgehou. “Klim maar op,” kom die blikstem weer. Pynlik bewus van sy flenters ribbetjies los Charlie die boom en gryp die tou vas. Met die hulp van die spul bo by die helikopter, maar met die tou wat sy ribbekas en borsbeen folter, loop hy teen die skuinste op. Bo gryp hande hom hardhandig vas en gooi hom tussen die gras en klippe op die nat grond neer. “Lê stil!” Dis die Rambo met die swart klere wat Charlie toesnou en met ’n knie op sy gekneusde borsbeen neersak. Die pyn is verblindend en dit flits rooi deur Charlie se kop. ’n Koue stuk metaal boor in sy regteroog in, wat dit ook nie juis gemaklik maak hier op die harde, nat grond nie. Snaakse mense wat hulle in dié omgewing het: dra swart klere en groet vreemdelinge deur skietysters in hulle regteroë te druk. Aangename kennis, ou pel! Charlie is in elk geval nie van plan om te roer nie; hy ken ’n skietding se loop as hy hom voel. Hy behoort dit te ken – hy verdien self sy brood en botter met so ’n ding. Hierdie een se gat voel net groter as sy .22 s’n. Sy linkeroog hou hy stip gerig op ’n paar cirruswolke wat nou pienk katsterte in die lug trek. Die sterk wind wat die lang grasse vroeër gebuig het, het die weer weggewaai na die suide en die lug is blou, helder en skoongewas ná die reën. Sy hande hou hy gestrek langs sy sye, sy bene roerloos reguit, die man het dalk net ’n senuagtige snellervinger. ’n Ander swartgeklede figuur se hande beweeg ru en sonder genade oor sy lyf. Charlie se vuil sakdoek gooi hy eenkant in die gras en sy beursie met dit wat oorgebly het van die witkop se duisend, druk hy in sy gatsak in. Charlie draai sy bruikbare oog na die man in swart wat op hom kniel. “Hoe de hel kom jy hier?” grom die stem wat hy oor die megafoon gehoor het. Simpel vraag. Die vent weet mos van die ou opgefokte Hilux. Hoe anders het hy hier gekom? Soos Liewe Heksie met ’n besem? Charlie draai sy oog nou na waar nog twee swart figure langs die helikopter staan, nogal met aanvalsgewere in die hand. Daar moet iewers ’n special op swart wees, of miskien het swart mode geraak terwyl hy in die tronk gesit het,
want hierdie perde dra net swart. Die breker op sy bors het ’n groot moesie op sy neus en moes op skool baie naby aan graad agt gedraai het, want dit lyk of hy uiteindelik twee en twee bymekaar gesit gekry het en by vyf uitgekom het – dat daar die een of ander verbintenis tussen hom en die Hilux moet wees. Met die raaisel van Charlie se reis tot hier opgelos, besluit Blackie dis tyd vir die volgende vraag: “Hoe weet jy van dié plek?” “Watter plek, ou pel?” sê Charlie en steun. Met die bliksem se knie op sy gekneusde bors is asemhaal moeilik. “Die … die stuk pad, of die sloot? Of … of die rots wat die Hilux se neus opgefok het?” Die loop word dieper in sy oog ingestamp. “Moenie ’n fokken wiseguy probeer wees nie. Het jy haar agtervolg?” Haar? Watter haar kon hy agtervolg het? Al wat hy gevolg het, was die ou Hilux se neus wat nou opgefrommel is, en sy pa het gesê ’n kar is ’n “hom”, want hy het ’n exhaust. Hy beter sy bek hou, want wat hy ook al sê, gaan verkeerd opgeneem en teen hom gebruik word, of so iets. Dit is wat die vet poot destyds gesê. As Blackie daai skietding dieper in sy oog indruk, gaan hy ’n tang nodig hê om die ding weer uit te trek. “Ek vra, bliksem!” Die knie stamp op sy bors. “Het jy haar agtervolg?” Charlie haal sy skouers op, skud sy kop. Hy het nie ’n clue van wie hierdie perd praat nie. “Wat kom maak jy dan hier?” Dis ’n makliker vraag, ’n intelligente een, veral as jy in ag neem dat hy self nie weet nie. “Ek het verdwaal.” Sy stem kraak. “Wat soek jy in hierdie wêreld?” Wat moet hy sê? Fok, ouboet, ek het ’n kontrak gehad om ’n witkop se outoppie te kom wegblaas, maar toe doen sy dit sommer self en vir ’n encore skiet sy sommer ’n ander ou antie ook wat so oud is sy sou in any case volgende week van die ouderdom gevrek het, en ek is maar net soos die Bybel sê die sondebok
wat die woestyn ingejaag is en hier is ek nou. Aangename kennis, ou pel, en ek is jammer ek het nie nou ’n skietding om ook in jou oog te druk om hallo te sê nie. O ja, iewers is daar nog ’n witkoplaaitie ook, maar ek het nie ’n clue wat van hom geword het nie. Maar hy sê eerder: “’n Plaas, ’n … ’n oom van my boer hier iewers.” Dis makliker. “Jy lieg, jou bliksem!” Sonder om die loop te verwyder, klap ’n groot hand Charlie deur die gesig. Die korrel van die pistoolloop ruk sy oogbank oop, pyn skiet deur sy kop en hy kan voel hoe ’n bloeddruppel pad soek teen sy wang af. Blackie beduie in die helikopter se rigting, en een van die ander kom met ’n Uzimasjienpistool in sy hande aangestap. Rambo met die moesie staan op, hou die pistool tussen Charlie oë gerig. “Maak sy hande vas, Vader kan oor sy lot beslis.” Vader? Charlie dink aan ’n ou toppie met ’n velthoed, twee-kleur-kakiehemp, kierie en ’n kakhuis vol kinders wat hier tussen die berge boer en ondertrou totdat almal lang kakebene het. In die tronk was daar ook ’n bliksem wat almal Vader moes noem, maar hy was nie ’n vader van kinders nie, hy was die baas van die plek, die donner wat jou oor ’n wasbak laat vasdruk het totdat jy later nie meer kon sit nie, en dit net omdat jy nie genoeg respekte betoon het of nie jou protection siegrets betaal het nie. Dieselfde harde hande van netnou pluk Charlie regop. “Hoe het julle my so gou gekry?” waag Charlie dit. “Omdat jy fokken stupid is.” Rambo met die moesie beduie met sy skietding na die pad wat Charlie deur die gras en klippe oopgebeur het. Die nat gras blink silwer in die oggendson, en sy spore lê soos die donkergroen sleepsel van ’n seekoei oor die plato. Sy pa het altyd gesê hy moet uit die veld uitbly, hy is nie ’n boer of ’n jagter se gat nie. Toe begin hy maar mense jag. Hulle trek ’n stink sak oor sy kop en bind dit onder sy ken om sy nek vas; boender hom in die helikopter in. Hy hoor hoe die rotors begin draai, eers stadig en dan al vinniger terwyl die turbinemotor al skeller skree en fluit. Dan is hulle
in die lug. Hel! En al wat hy kom doen het, was om ’n toppie uit sy ellende te verlos! Skielik dink Charlie weer aan die foto in die ou vrou se bebloede hande. Wat het van die seun geword? As hy nog in die huis was toe hy daardie paraffienverwarmer omgeskop het … Wou die witkop hom ook dood hê, maar het net nie die guts gehad om dit self te doen nie, toe los sy dit vir hom? Dit maak nie sin nie, want die laaitie was nie deel van die kontrak nie en sy kon nie vooraf geweet het dat hy die plek gaan afbrand nie. Die vrou sal mos nie haar kind daar gelos het nie … Tensy sy van hóm ook ontslae wou raak?
10
Toe hulle die stink sak van sy kop afruk, is dit reeds dag, met die soort gedempte lig wat jy net in ’n nou kloof kry as die son se strale nog nie oor die rotsomsoomde koppe van die omliggende berge geloer het nie. Hulle was ’n hele ruk in die lug voordat die helikopter neergestryk het op ’n dowwe sandpad voor die hek van ’n groot sandsteenhuis wat teen die rotswand aan die oostelike kant van die kloof gebou is. Die swaar ysterhek het twee hoë sandsteenpilare weerskante en die pad loop van daar langs die huis verby en verdwyn om ’n draai na waar die kloof uitloop op ’n vlakte gestippel met wat vir Charlie soos swartwildebeeste en ander wild lyk. Dit is nou wat hy kan uitmaak met sy een oog halftoegeswel en toegekoek met droë bloed van die skade wat die pistool se korrel aan sy oogbank verrig het. ’n Dubbele ysterboog span tussen die twee hekpilare; gesweiste letters tussen die twee boë. Dal van sy genade, lees Charlie terwyl die groot staalhek oopskuif. Snaakse naam vir ’n wildsplaas. ’n Toekringkamera is op die boog gemonteer; sy swart oog volg hulle bewegings noukeurig. Charlie wonder of dié pad dieselfde een is waarop hy met die ou Hilux beland het. Hy móét wonder, want hy moet weet hoe om weer hier uit te kan kom. Dit lyk nie juis of hierdie perde hom weer by die hoofpad gaan aflaai en hom ’n voorspoedige reis gaan toewens nie – die een wil leliker en gevaarliker lyk as die ander. Hulle dra Uzi-masjienpistole of AK47’s aan ’n band oor die skouer. Watse wild skiet hulle met daardie goed op ’n wildplaas? Bobbejane wat kan terugskiet? Weerskante van die hek is borde met rooi kopbene en weerligstrale wat in drie tale waarsku dat die hoë draadheining met die rolle lemmetjies bo-op geëlektrifiseerd is en groot gevaar inhou vir enige iemand wat dit durf waag om daaraan te raak. Die bobbejane van dié plek klim hopelik nie draad nie, of hulle kan lees. Die heining loop teen die hoë kranse van die oostelike hang van die kloof vas en aan die westekant verdwyn dit oor die effens platter rug van die berg. Heel bo, waar die draad oor die kruin verdwyn, kan Charlie iets soos ’n wagtoring sien. “Kom, roer jou gat!” snou een van die spiertiere in swart en stamp hom in die rigting van die huis.
Die groot ou plaashuis wat van die vorige eeu moet dateer, het ’n breë stoep met sandsteenpilare. Van waar Charlie voortstrompel kan hy vier klipskoorstene bo die groen sinkdak sien uitsteek; in die winter moet die kapok hier diep lê. Hy kan aan die dun lug proe dat hulle hoog in die berge moet wees. Die huis moet baie vertrekke hê, daarom die baie houtvensters met skuiframe wat op die alkantstoep uitkyk. Waarom sou mense hulle toeka se tyd in hierdie onvriendelike wêreld kom vestig het? Om sonder baie siektes met vee te boer? Of was dit die groen dek- en tamboekiegras wat hier dreig om selfs die tweespoor toe te groei wat hulle gelok het? Of wou hulle net in die berge verdwyn om weg te kom van die Engelse en die Zoeloes van Natal? Na waar die lug skoon is en die water koud en helder uit die grond kom? Die dubbele oregonvoordeur met die loodglase word oopgestoot deur nog ’n swartgeklede vent, en hulle stamp hom teen die kliptrappe op. Die een met die moesie por hom met sy AK van agter in sy rug. “Jy gaan genoeg tyd hê vir sightseeing, ou pel! Glo my. Maak dat jy in die huis kom, Vader wag.” “Hulle is in die voorste kamer,” sê die een wat die deur oopgemaak het. Die breë gang se blinkgepoleerde plankvloer kraak as hulle instap. By die eerste deur regs druk hulle Charlie in en gaan staan in ’n halfmaan agter hom in die rusposisie, sonder dat hy iemand “op die plek rus” hoor bulder het. Hierdie spul is beter as die bleddie army! Die vertrek het groot boogvensters met swaar gordyne wat effens deur die wind geroer word, terwyl die grinterige oggendlig flou deur ’n skrefie probeer loer. Gebreide Ngunibeesvelle lê gerangskik op die blink plankvloer en ’n ou voorlaaier is saam met ’n paar bokhorings bo die groot klipkaggel gemonteer. Die kamer lyk soos die stel van ’n Boereoorlogfliek, of soos die sitkamer van ’n president of ’n ander hogere man. Die meubels is groot, swaar en van donker hout. Ovaal portrette van omies met baarde en voorlaaiers en anties met kappies en lang rokke hang teen die mure. Aan die staalplafon hang ’n groot kandelaar gemaak van ou olielampe, nou met elektriese gloeilampe. Die plek stink na vloerpolitoer, stof en mottegif – die reuke van ’n kamer wat nie baie gebruik word nie en te lank toe gestaan het. Langs die kaggel sit ’n skraal man op ’n stoel met ’n hoë rugleuning, sy kaalgeskeerde kop glinster effens in die skemer, en onmiddellik merk Charlie sy besondere lang nek met ’n adamsappel wat lyk soos ’n kropgeswel. Hy sit
kiertsregop met sy voete op ’n leeuvel en sy hande op sy skoot gevou. Die leeu se kop, met ’n grynsende bek tande, lê op die blink vloer en kyk Charlie stip met sy plastiekoë aan. Dan merk Charlie die jong vrou agter die stoel; sy staan met haar een hand vertroulik op die man se skouer, haar gesig byna heeltemal in skadu gehul. Die toneeltjie lyk soos een van die ou foto’s van jare gelede toe groot gesinne nog aan die orde van die dag was. Hel! Die man met die nek kort net ’n voorlaaier, ’n weglêsnor en ’n bedonnerde kyk in sy oë. In ’n stadium was sulke ou portrette vir hom snaaks, maar in die huidige omstandighede … Daar is boonop iets aan die vrou wat vir Charlie bekend lyk … Maar dan praat die man: “Broer Gerrie, trek die gordyne oop dat ons mekaar beter kan sien, asseblief ou seun.” Die man op die stoel se adamsappel spring op en af as hy praat. Sy stem is diep en gemoduleer, ’n mooi stem, van die soort wat vra eerder as beveel, maar sonder om enige twyfel te laat oor die uitvoering van die versoek. Daar is ook ’n sweem van ’n Engelse aksent, nie veel nie, maar net genoeg om ’n mens te laat wonder. Charlie onthou dat hulle in die weermag ’n korporaaltjie gehad het met so ’n lang stywe nek en ’n klein koppie. Sy bynaam kon jy nie vir jou ma vertel nie. Die een met die moesie op sy neus reageer – hý moet dus Gerrie wees. “Vader!” roep hy uit en kom flink op aandag, weliswaar sonder om die plankvloer met sy swart gevegstewel te verwoes. Hy beweeg vinnig na die vensters, trek die gordyne oop en kom neem weer sy plek in die ry agter Charlie in. “Dankie, broer Gerrie. Waar het julle hom toe opgespoor? Was dit toe maklik?” Weer die stem, maar in die lig wat deur die vensters instroom, kan Charlie sien sy eintlike krag lê in die oë – ysblou, amper grys. Dit voel vir hom of daardie oë tot in sy siel se diepste geheime boor. Dit is oë wat boei, priemende oë wat vasgryp en hipnotiseer – die oë van ’n leier. Die man het ’n soort wye Mosesoorrok aan met versierings op die bors en moue. ’n Houtkruis hang aan ’n goue ketting om sy nek. “Sonder die sender aan die Hilux sou ons hom nie gekry het nie, Vader. Hy het om die een of ander rede die Steelsdrifpad gevat, toe het ons hom verloor in die reën, hy het verder afgedwaal. Hy beweer toevallig in hierdie rigting.” Langnek kyk Charlie stip en byna ingedagte aan. “U sien, meneer Stevens,” sê hy op sy rustige, vaderlike manier, “moord is ’n ernstige misdaad, een waarvan
pertinent in die Groot Boek melding gemaak word. In Eksodus 20 vers dertien sê die Vader: ‘Jy mag nie moord pleeg nie.’ Ons moes seker maak dat jy wel by die owerhede uitkom om jou skuld te betaal, ons kan nie anders nie, dis sy opdrag aan ons.” Maar dan weet hulle mos van die kontrak! Hoe de hel? Daardie geklop van helikopterlemme toe hy uit die brandende huis gestorm het … Iets flits in Charlie se gedagtes en sy oë skiet na die vrou agter die stoel. Fokkit! Dis nie moontlik nie! Hoe kom sy hier? Nou eers verstaan Charlie wat Gerrie hom daar op die plato gevra het. “Het jy haar hierheen gevolg?” het hy gevra. Dit is beslis die witkop met die groen oë, die bleddie bitch wat hom geframe het. Dis sy wat hom in hierdie stront laat beland het. En kyk hoe staan sy daar. Waar is daardie skelmgeit in haar oë nou? Waar is daardie soet woordjies? Nou staan sy daar soos ’n verlepte blom en maak asof sy hom nie sien nie. Die teef! Waarom kyk sy hom nie in die oë nie? Hoekom kyk sy net na die plafon? “Ek sien jy herken my vrou, meneer Stevens.” Vrou! Is sý ou pielnek se vrou? Nou wat van die ou bliksem op die plaas? Die een met die gryskop en die kop vol lood? En wat van die ou vrou, en die laaitie? Ja, wat van die laaitie? Charlie kan die opwelling van vrae nie meer keer nie. “Nou … nou hoe de donner werk dit?” roep hy uit. “Sy het my dan gehuur om haar ou man …” Die man se grys oë flits, die kaalkop en nek kom regop soos dié van ’n slang wat gereed maak om te pik. “Jou taal, meneer Stevens! Asseblief. Dit is ’n plek van God. Die kloof word genoem ‘Dal van sy genade’, en hier word nie gevloek nie.” Hy leun terug, sit sy hand op die vrou s’n op sy skouer. “Gaan lees Deuteronomium 4 vers 11, Eksodus 20 ook.” Hy gee die hand op sy skouer ’n drukkie. “As jy dan moet weet, Hy het dit aan my geopenbaar dat sy vir my bestem is; jy was maar net ’n instrument in sy hande toe jy so tragies van haar vorige eggenoot ontslae geraak het. Sy was van die begin af vir my bedoel, en wat Hy saamgevoeg het, kan geen mens skei nie. Matteus 19 vers 6.” Die witkop lyk nou tranerig, en sy kyk amper pleitend na Charlie voordat sy haar oё weer na die plafon keer. Charlie gaap haar met ongeloof aan. Wat gaan nou aan? Wat het geword van haar gladde selfversekerdheid, van daardie groen oë wat hom so gemesmeraais
het? Hoekom lyk dit nou asof sy iets van hom wil hê? Sy het dan nou alles wat sy wou gehad het! Al haar plannetjies het mos uitgewerk. Of is dit nou ’n nuwe scheme dié? “Daar is nog baie aanhalings uit die Groot Boek, meneer Stevens, maar ek sal vir eers met die paar voorafgenoemdes volstaan. Ons plan is om jou by die polisiestasie op Volksrust te gaan aflaai, en die polisie te vertel hoe ons jou in die veld gekry het nadat jy gevlug het van Mooifontein af – dit is nou natuurlik nadat jy die moorde gepleeg en die huis afgebrand het. As ’n Christelike gemeenskap is dit net ons plig.” Van hierdie stront het Charlie nou genoeg gehad! Sedert C-Max se deur agter sy gat toegeklap het, neuk almal hom rond. Hy gee ’n tree vorentoe, beduie met sy vinger: “Luister, ou pel, fok jou ook! Jy met jou Mosesrok en al. Ek het vir jou ook ’n fokken versie: Jy het die verdomde kat aan die gat beet! Charlie Stevens, hoofstuk 12 vers 8, gaan lees dit maar. En lees my lippe: Ek het fokkol daarmee te doen gehad. Sy is die een wat die sneller getrek het …” Slangnek knik na iemand agter hom. Charlie voel ’n hand op sy skouer en ’n duim wat in die sagte vleis van sy nek inboor. ’n Verlammende pyn skiet deur sy lyf, in sy kop in op en af tot in sy tone. Die kamer begin draai, sy bene vou onder hom in en die swart en wit kolle van ’n Ngunibeesvel skiet op na sy gesig toe. Hy is bewus van ’n naaldeprik in sy boarm, terwyl die duim steeds in sy nek inboor. ’n Geluksaligheid neem dan geleidelik van sy liggaam besit, spoel soos ’n golf verkwikkende water oor hom. Die druk op sy nek word verlig en hy is ook bewus van hande wat hom optel en regop hou. Die man met die wit rok sit hom met ’n flou glimlag en bekyk. Charlie sien sy lippe beweeg, die adamsappel wat spring, en hy hoor vaagweg ’n stem asof iemand deur ’n pyp met hom praat. “Net ’n ietsie om jou te kalmeer, meneer Stevens, niks ernstigs nie.” Die kop met die bewegende lippe skuif dan vinnig uit sy gesigsveld uit, maar die stem draal nog: “Sit hom eers by broer Deon, ek sal later verder met hom handel.” Die laaste ding waarvan Charlie bewus is, is die witkop se oё. Hy sien hoe sy, asof met moeite, van die plafon wegkyk en haar blik, daardie groen oë, op hom laat rus. En net voordat alles voor hom wasig word, lyk dit asof sy hom iets wil vra.
11
“Blou.” “Pienk.” “Pienk? Ek sê blou.” “Ek sê pienk.” “Nou waar kom jy daaraan?” “Dis Woensdag, daarom is dit pienk.” “Ag hel, Kat. Wil jy nou vir my sê dit is elke Woensdag pienk? Ek dink jy vat ’n lang kans.” Pine maak sy beursie oop, haal ’n noot uit. “Ek het ’n twintig hier wat sê dit is nie pienk nie.” Kat kruis sy bene, gee sy snor ’n paar vrywe terwyl hy vies onder sy wenkbroue deur na Pine se verkreukelde twintigrandnoot loer. “Is dit al wat jy kan bekostig?” Pine druk die noot in die besnorde speurder met die halwe oor se hempsak. “Ja, demmit! Ek het ’n vrou en ’n kleintjie. Is jy aan of nie?” Kat knik sy kop, vat die noot. “Oukei, maar ek wed nie gewoonlik vir peanuts nie.” Die twee speurders sit erg verveeld in luitenant-generaal Mkhize se kantoor. Hy is die hoof van die Gautengse Valke; die kantoor het ’n dik rooi mat, die groot netjiese L-vormige lessenaar het ’n rekenaar en ’n drukker en ’n klein landsvlaggie op die L se kort arm. Hy wou hulle ’n halfuur terug dringend sien, en Ann, sy sekretaresse en Pine se vrou, het gesê hulle moet maar instap, hy is op pad. Pine en Kat staan op as die deur agter hulle oopgaan. Luitenant-generaal Mkhize het sy gewone en nou al bekende uniform aan: swart pak, swart hemp, blou
waterbottel in die hand en ’n helderkleurige das. Vandag is dit so wragtag ’n pienke, ’n helderpienke soos die truie waarin die Boland-rugbyspan deesdae speel. “Be seated, gentlemen. Jammer, julle kêrels, maar ek was in ’n meeting met die general.” Mkhize trek sy baadjie uit en hang dit sorgvuldig oor ’n hanger aan ’n kapstok langs die venster. Kat haal die noot uit sy bosak; kyk met ’n skewe glimlag na sy ou vriend. In Pine se jong dae sou ’n man nie dood gesien gewees het met so ’n pienk ding om die nek nie. Pienk is ’n vroumenskleur, vir onderklere en ander fyn goedjies, van hulle se prêmdae af. Ann weet as sy hom die moer in wil maak, moet sy vir klein Tiaan ’n pienk babygro aantrek, of ouma Betsie se pienk gebreide kombersie oor hom gooi – daai laaitie van hom sal ’n bleddie afwyking kry! Pienk is vir dogtertjies en blou is vir seuntjies, klaar. Hoe onderskei ’n man dan nou anders tussen hulle? Nou staan hierdie generaal hier met ’n pienk bleddie … Mkhize laat ’n sluk water uit die blou bottel in sy keel afgorrel en kom sit agter die lessenaar. Hy druk die prop weer sorgvuldig vas, kyk grootoog na Pine, sy skraal gesig wat as gevolg van ’n bokbaardjie nog langer lyk. “Paaien, what is the probleem? Jy lyk vir my moerig genoeg om jou eie klippe stukkend te kou.” Mkhize het sedert hy van Durban na Johannesburg verplaas is, hard gewerk aan sy Afrikaans, maar sy idiome lol nog so ’n bietjie. “Nee, Generaal, ek is orraait.” “Did Kat enlighten you about the purpose of the meeting? Ek het vanoggend saam met hom gepraat in die opskamer.” So ’n bliksem! Pine kyk na Kat, maar die man is skielik baie geïnteresseerd in ’n duif wat al koerende op die vensterbank vir ’n wyfie diknek maak. Hy wou sê hy ruik ’n rot, ’n grote met ’n moerse snor. “Dis Woensdag, daarom is dit pienk,” hoor hy weer daardie rot se stem in sy kop, ’n bleddie boereverneuker van ’n rot! “Paaien?” “Nee, ek’s reg, Generaal!” Pine hou Kat uit die hoek van sy oog dop. Dié bewaarder van goeie waardes sit egter nou met maagdelike onskuld die groot portret van president Zuma teen die muur agter Mkhize se kop en bestudeer.
“Whatever!” Mkhize loer op sy goue horlosie, staan op en stap na die venster. “Ons wag net vir dokter Annie de Viljee voordat ons aangaan.” Terwyl die generaal met sy hande agter sy rug by die venster staan en uitstaar, klap Pine sy vingers sag en hou sy hand uit na Kat. Gemaak ongeërg druk Kat die noot terug in Pine se hand. Die deur swaai oop en Mooi Annie kom ingewaai. “Good morning, General,” kloek sy vir die man by die venster; Pine kry ’n vriendelike “goeiemôre”, maar Kat net ’n kortaf “dag, Kat”. Vir niemand in besonder nie sê sy: “Ek is jammer ek is laat, maar die paaie is verstop, van Pretoria af.” “It’s quite all right, Annie,” sê Mkhize, maar dan lui sy selfoon. Hy skuif die foon oop, draai sy rug op hulle, en met sy een hand in sy broeksak praat hy sag in die instrument. “Môre, Annie,” sê Pine. “Mmm,” grom Kat terwyl hy ’n los stuk garing van ’n hempsknoop probeer afbreek. As sy vol vroumensstront wil wees, hy ken ook daardie game – hy was drie jaar met een van hulle getroud. Annie het ’n swart langbroek, puntstewels en ’n rooi bloes aan. Haar swart hare is in ’n netjiese Franse poniestert gevleg. Dit is die eerste keer dat Pine haar met effense grimering sien, en sy lyk goed genoeg om te eet of sommer net op te ruik. Chanel Nr. 5, Ann gebruik dit ook as sy iets interessants van hom wil hê. Annie gaan sit in die stoel langs Kat, sit haar handsak op die grond tussen hulle neer, kruis haar bene en loer skalks na die speurder met die groot swart snor. Kat sien haar egter nie eers raak nie; hy het die los rafel van die knoop afgetrek en vryf dit nou tussen duim en wysvinger in ’n bolletjie. In sy ander hand hou hy die knoop vas wat in die proses losgekom het. Pine grinnik. O, ellende op ellende! Speurder soek ’n vrou – dit sal ’n goeie TVreeks maak. “Jy moet regtig iemand kry om jou knope beter aan te werk,” sê Annie met ’n stem wat drup van die vriendelikheid, maar die rafelbolletjie verg al die man se aandag. Annie kyk na Pine en knipoog in Kat se rigting. Pine wonder of Annie besef dat sy besig is om met die leeu se stert te speel. Ou
Kat het ’n paar Cupido-pyle deur die hart, maar hy bly ’n gevaarlike man, word gou kwaad en die ontlading is gewoonlik gewelddadig. Maar nou ja, die liefde is … “Right!” Mkhize klap sy selfoon toe en kom teruggestap. “Let us start.” Hy gaan sit agter die lessenaar, teug aan die blou bottel en skuif gemakliker in die stoel in. “The drug of the Cape Flats, crystal meth or more commonly known as tik, is becoming more and more of a nuisance north of the Orange river. Even at universities like the Northwest University and Tukkies more students are using it. There is a noticeable increase also in the PWV area, and especially in the KOSH municipal area.” Die speurders kyk fronsend na mekaar. Die PWV gebied ken hulle, maar Kosj …? “Dit is die munisipale gebied van Klerksdorp, Orkney, Stilfontein en Hartebeesfontein,” verduidelik Annie snipperig. “So, the northern universities are having a combined campaign, together with various law enforcement agencies against the increase of drug abuse. They are holding a week-long conference at the Northwest University, die Puk, soos julle hom almal roep. The DEA of America will also be represented and will lecture as part of a worldwide drive to try and clamp down on the manufacturing and distribution of drugs. Julle weet dat ons ewe skielik die groot moeilikheid het saam met die tik en heroïne en ook van die coke.” Hy suig weer aan die bottel, terwyl sy oë van die een na die ander spring. Toe die generaal die hoof van die nuwe Valke-eenheid geword het, het hy van die lede van die ontbinde Skerpioene-eenheid in sy eenheid opgeneem, maar ook van die speurders wat voorheen onder hom gewerk het. Pine, Kat en Jerome Williams het besluit om by die Valke aan te sluit, want hulle het gevoel dit is ’n eenheid wat ’n verskil kan maak. “Daar sal van Narcotics se mense ook wees met speeches en daardie soort van ding. Elke afdeling is gevra om representatives te stuur. Annie, you are going to make a speech on the forensics of drug abuse and the consequences thereof in South Africa. I suppose you have been notified about it already?” Annie knik. “Ja, Generaal.”
“Ek hoop net nie ek moet ook ’n donnerse speech maak nie,” brom Kat deur sy snor, vee die punte driftig uit sy mondhoeke. “Kat, enigste rede waarom jy gaan, is vir ondervinding. Somewhere, we think in southern Gauteng or the Free State, there is a hell of a big drug manufacturing plant and I’m sure that one of these days we will have to send somebody in as an undercover agent; somebody not so well known to the drug cartels, and then you must know what it’s all about.” “Sny net sy snor af, Generaal, en niemand sal hom ken nie,” karring Pine. “Ek stem saam, Generaal,” koer Mooi Annie met ’n sedige gesiggie. Kat brom iets onhoorbaars. Nou soek sy vir stront, jy karring nie aanhoudend aan ’n man se bleddie snor nie! “Daar is nog anderse lelike dinge wat jy moet bekyk daar naby, in die Vredefort Dome. Ken jy die plek? Sabotage of development projects, and a young woman drowned under very mysterious circumstances at one of these sites – she was an excellent swimmer … So, terwyl jy daar is, hou sommer jou oë oop, want die mannetjies van die Buffelshoek en Potchefstroom se stasies het nie ’n clue nie.” Kat skud sy kop. “Hoekom word die konferensie juis by die Puk gehou, Generaal?” “Die mense van Amerika het gevra vir ’n … ’n tranquil plek. Hulle sê die drugsding is depressing genoeg. Die mense van Potchefstroom se university het ’n plaas, Nooitgedacht, in die Dome, op die rivier se walle. Daar is bungalows, a conference sentrum en al die modern facilities – daar is ander kampe ook in die omgewing vir blyplek. Dit is baie central ook. The NWU snapped up the opportunity to be the host. Daar is natuurlik ander sponsors ook wat van die drugs-ding ontslae wil raak.” “En ek, Generaal?” Pine sien al ’n week van rustigheid, snags deurslaap sonder ’n skreeuende kleintjie, vuil doeke en bottels wat gesteriliseer moet word. Hy kan al die sing van ’n Penn 49A-katrol hoor as daardie pappie van alle geelvisse hom vat en stroomop hardloop. “Sorry, Pine, but I need you here, perhaps some other time. As brigadier van die Hawks is jou rough en tumble dae bietjie nou klaar.”
Ag tog! Miskien is dit maar beter so. Hy sal hom in elk geval vrek verlang het na Tiaan en Ann.
12
Toe Charlie sy oë oopmaak, het hy ’n babelas wat soos ’n vrot nat vadoek oor hom lê. Niks is seer nie, maar niks voel ook reg nie; niks is vasgemaak nie, maar niks wil ook beweeg nie. ’n Lam, lui, koorsagtige doodsheid het hom soos griep beet en laat hom stil lê. As die hamerhoue tussen sy oë te erg raak, maak hy hulle maar eerder weer toe – loer deur skrefies in die kamer rond. Waar de hel is hy, en waar kom dié koning van ’n babelas vandaan? Hy’t wragtag nie gesuip nie – of het hy en net daarvan vergeet? Dan begin die gebeure van die vorige nag stadig deur die newels na hom kom: die witkop met die groen katoë, die helikopter, die maer man met die Mosesjas, die inspuiting … Dit moet die inspuiting wees wat hom so binnestebuite laat voel. Wat se stront was dit? Batterysuur? Hy draai sy oë en loer in die kamer rond sonder om sy nek te verroer. Die dak is van gras en daar is ’n paar lelike spinnerakke in die nok bokant ’n gloeilamp met ’n plastiekskerm wat aan ’n draad van een van die teerpaalbalke afhang. Dit moet ’n soort rondawel wees, die mure is gerond, en daar hang ’n sterk chemiese reuk in die lug. Charlie raak bewus van nog iemand in die kamer, en hy draai sy nek stadig na regs. Teen die muur is ’n bed en daarop sit ’n man, kruisbeen en met net ’n onderbroek aan, sy bolyf kaal. Hy sit op ’n grys kombers en is besig om die glasstulp van ’n gloeilamp bokant ’n kersvlam rond te draai. Met geslote oë trek hy die wit rook wat uit die gloeilamp se oop nek borrel met ’n strooitjie diep in sy longe in. Hel, die vent sit so wragtig en tik rook! Hy het dit in die tronk leer ken, daar het die manne dit soms ook lolly genoem. In C-Max het so ’n bleek bliksem van die universiteit vir hulle kom sta’ en vertel hoe sleg tik en ander drugs soos heroïen en crack-kokaïen vir jou is. Een van die perde met die swart uniforms kom in en die man op die bed se oë vlieg oop. Die man in uniform gryp die gloeilamp. “Jy’s klaar,” sê hy bot en stap weer uit. Die man op die bed – hy’s nog jongerig, sien Charlie – leun terug tot
teen die muur, stamp-stamp met sy agterkop daarteen, sy oë toe en ’n geluksalige uitdrukking op sy gesig. Sy oë gaan luierig oop en hy staar nikssiende na die dak, dan val sy ken plotseling op sy bors en hy knip sy oë ’n paar keer vinnig. Charlie kan sien hoe hy begin fokus en hom opmerk. “Yes, my ou pel,” sê die man met ’n tevrede sug en vryf oor sy een kaal skouer. “Ek’s broer Deon, en jy?” Sy mond vertrek in ’n breë glimlag, hy pak behoorlik tande uit. Dis tik-vriendelikheid daai, weet Charlie. Die tik trek die een of ander ding uit jou brein uit en dit is wat jou so laat voel, dis wat daai lanie in die tronk gesê het. Charlie kyk die ou op die bed onderlangs aan. “Jy’s nie my fokken broer nie,” brom hy. “Ek’s sommer ou Charlie, en my kop is hel seer, praat net fokken sagter.” Die jong man staan op, tel een van daai Mosesrokke van die grond af op en trek dit oor sy kop. Die kleed lyk nes die een wat Pappa Slangnek aangehad het, net korter en met minder goud op die bors en skouers. Dié een kom net tot by die knieë en daar is die een of ander blou kruis op die bors gedruk. Van ’n stoel by die bed se voetenent tel die man ’n houtkruis op, weliswaar nie so groot soos Pappa s’n nie, en dit kom ook sommer met ’n riem om sy nek, nie ’n goue ketting nie. “Het jy al jou pyp gehad?” vra die man, steeds die ene tande. Charlie maak sy oë toe. As die vent net sagter wil praat! “Ek rook nie daardie stront nie. Jy moet dit los, jy fok jou gesondheid op.” Dan onthou Charlie sy naam. “Deon, my china, jy moet dit watch.” “Aikona,” sê Deon en skud sy kop oordrewe. “Aikona. Vader is ’n dokter en hy weet wat hy doen. Hy sê dit is soos medisyne as ’n man dit beheer en matig gebruik.” “Is jy dan siek?” “Siek? Wat bedoel jy?” Deon spook ’n ruk met die rok se belt en kyk Charlie dan vraend aan.
Charlie kom stadig regop, trek die vuil stink blou trui oor sy natgeswete hare en gooi dit op die bed se voetenent neer. Dôner, nóú stink hy na sweet. Hy gaan sit met sy kloppende kop in sy hande. Hy sal eerder wou bly lê, maar hy moet gaan pis. “Ek vra, wat bedoel jy?” “Jy sê daai stront wat jy rook, is medisyne. Het jy kiem in die riem? Vigs of iets? Jy lyk nie siek nie.” “Dit gee jou woema, ou vriend. Ek kan die hele dag werk sonder om moeg te word. Ek word nie eers honger nie.” Deon gaan sit op sy bed en maak ’n paar sandale se gespes vas. “Werk? Watse werk?” “Ons plant mielies, kweek groente in tonnels en ons het ’n groot veeboerdery. Partykeer werk ek in die fabriek ook. Ons is selfonderhoudend hier in die kloof. Ons moet wees, want die wêreld daar buite is te vol sonde en verkeerde leringe. Vader sê hoe minder ons met hulle kontak het, hoe beter.” Charlie skud sy kop. “Nee, demmit! Dis makliker om te koop by die Griek se kafee op die hoek, of by Checkers. Waar kom julle aan dié stront?” “In die tweede brief van Johannes waarsku hy ons dat as iemand na jou toe kom wat ’n ander leer het, moet jy hom nie eens in jou huis ontvang nie. Jy moet hom nie eens groet nie, want wie hom groet, sê Johannes, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen.” Charlie wonder hoe lank die broer aan dié versie geleer het, want hy lyk nou nie juis na die blinkste liggie aan die boom nie. “Julle kan mos nie alles self maak nie. Goed soos sout, tandepasta, rys … Wat van … ’m … toiletpapier? Of gebruik julle die mieliestronke wat julle self kweek?” “Een keer ’n maand gaan Vader en broer Gerrie met die helikopter Newcastle toe vir daai klas van goed. Is jy een van die mense wat met ’n verkeerde leer na ons toe kom, broer Charlie?” “Ek is nie jou fokken broer nie!” Charlie gryp sy kop vas, staan steunend op en strompel kruppel en brommend badkamer toe. Sy heup is nie lekker nie; die
stampe en stote wat hy deesdae kry, begin sy tol eis. In die tronk was dit baie rustiger en het dit beter met hom gegaan. Halfpad badkamer toe steek Charlie vas, sy kop steeds tussen sy hande. “Watse fabriek het julle?” vra hy en loer half onder sy blad terug na Deon. “Ek kan nie vir jou sê nie, dis teen die reëls.” Deon is besig om ’n borsel te trek deur sy swart hare wat tot op sy skouers hang. Met die Mosesrok en die hare lyk Deon vir Charlie kompleet soos ’n figuur uit die ou Kinderbybel wat hy eendag in ’n trommel op die solder ontdek het – daar kort net ’n ligkring om sy kop. Sy pa was bly oor die Bybel, die bladsye was blykbaar net reg vir zolle draai. “Vir wat nie?” vra Charlie en stap stadig terug na Deon. “As jy eendag jou toga verdien het en die tyd is reg, sal Vader jou inlig.” “Aag, te hel met hom.” Charlie draai weer om en loop brommend na die badkamer langs die rondawel se klein kombuisie. Hy skrik as hy homself in die badkamer se spieël sien. Sedert hy uit die tronk gekom het, was hy nog nooit naby ’n skeermes nie en laas nag se eskapades was nou nie juis ’n skoonheidskuur nie: een van sy oë is toegeswel, die pistoolloop het sy oogbank verfonkfaai en sy baard is vol klonte droë bloed. Die baard kan wel nuttig wees, want as hy hier uitkom, sal hy ’n ruk iewers moet gaan laaglê. Terug in die slaapvertrek moet Charlie sy kop skud om seker te maak sy oë bedrieg hom nie: Nou sit daar by broer Deon ’n meisie met ’n dik goue vlegsel op die bed. Hy is ooglopend nie haar broer nie, daarvoor klem hulle mekaar se hande te styf vas en kyk net té diep in mekaar se oë. Sy dra ook een van die wit gewade met die blou kruis; die rok is net nog korter as broer Deon s’n en Charlie wonder of sy nie dalk eerder ’n pienk kruis moes gehad het nie. Hel, as hy dit saam met ’n meisie met só ’n rokkie en sulke bene kan doen, sal hy enige tyd gaan wortels plant, of koeie melk, of miskoeke optel, of so iets. Hy wonder wat maak hulle as hulle kondome opraak hier in die kloof. Brei hulle hul eie? Deon strek ’n lang, dun kaal arm na Charlie uit. “Broer Charlie, ontmoet suster Felicity. Ons is deur Vader aan mekaar toegesê. Die band tussen ons word volgende week voltrek, dan sal jy moet uittrek hier.”
“Ek is nie jou fo …” Ag te hel daarmee, met so ’n suster kan Deon maar sy broer ook wees. “Moenie worrie nie,” sê Charlie dan, “ek is klaar op pad huis toe.” “Het Vader gesê jy kan maar gaan?” Die meisie se stem is nog mooier as haar bene, as dit moontlik is. Sy kyk dan op na die dak en Charlie volg haar blik: ’n toekringkamera in die nok van die rondawel! Hel, as hulle volgende week getroud is, sal hulle saans die lig vroegaand al moet afsit, want almal in die verdomde plek, lyk dit vir Charlie, is op candid camera. “Nee, Poppie, maar jou oom skrik nie vir ’n slangnek met ’n lang rok nie,” sê Charlie vir die kameralens, gooi sy blou trui oor sy skouer en stap deur toe. Hy het hulle glad nie hoor kom nie: broer Gerrie en nog ’n swartgeklede gorilla staan in die deur, elkeen met ’n swart knuppel in die hand. Charlie kan sien hulle het nie na sy welstand kom verneem nie. Charlie reageer instinktief en smyt sy trui in broer Gerrie se gesig. Dis nie ’n baie broederlike ding om te doen nie, veral in die lig van die haglike toestand van die trui, maar nog minder is die vuil tekkie wat Charlie tussen Gerrie se twee lieste plant. Gerrie roep luid na sy voorvadergeeste en sak met sy twee hande koesterend oor sy kroonjuwele op die klipvloer neer. Charlie het egter skaars tyd om hom daarin te verlustig, want hy het reeds besef dat hy hom misreken het. Met hierdie heup van hom is hy te stadig vir sulke walse. Uit die hoek van sy oog sien hy die blinkswart knuppel flits voordat dit vyftien sentimeter diep in sy pensvelle ingestamp word en Charlie tog maar ewe broederlik langs Gerrie neersyg. Weer voel Charlie die duim op die drukpunt in sy nek en hoe sy liggaam en brein willoos word. Ken hulle nie ander verdomde truuks nie? Charlie herken die stem; hy draai sy kop so ver hy kan en sien die lig blink op Vader se kaal kop. Hy sien ook die spuitnaald in Vader se hand. “Druk sy arm op die grond vas,” sê Vader asof dit ’n hondjie is wat gedokter moet word. Langs Charlie kom ouboet Gerrie met ’n brul orent, vee sy mond aan ’n swart mou af, val met sy knieë op Charlie se arm neer en grawe sy vingers in sy oë in. Gerrie het beslis nog nie van die draai van die ander wang gehoor nie. Charlie voel die prik van die naald en dan hoe die heerlike kalmte van gisteraand weer oor hom spoel. Die geklop in sy kop word stil, selfs Slangnek lyk nou soos ’n liefdevolle pappa wat net die beste vir hom wil hê. Sy gedagtes is besig om af te
skakel … Charlie stry daarteen; hy wil nie dat hierdie hemelse geluksaligheid ophou nie. Vader se stem klink asof dit van ver deur dik miswolke eggo: “Jy wil nie luister nie, broer Charlie. Hoekom skop jy teen die prikkels? Jy gaan nog soebat vir die genade van die naald. Sluit hom weg, broers, hierdie een sal ons moet inbreek soos ’n halsstarrige perd, totdat hy die insig van die wysheid verkry het.”
13
Die pyn klop in Charlie se heup. Hy maak een oog oop en word stadig bewus van sy omgewing: ’n knopperige klapperhaar matras wat ongemaklik in sy stuitjie en skouerblaaie inboor, die stank van Jeyes Fluid in ’n slopemmer of ’n ding wat al lankal leeggemaak moes gewees het. Hy hoef nie eens te kyk nie, hy is in ’n sel, hulle stink almal dieselfde. En hy is kaalgat, soos die dag toe hy in die lewe gekom het. As daardie eerste inspuiting hom soos ’n krokodil met gordelroos laat voel het, het die tweede een hom saam met al sy ellendes in ’n diep put van depressie gegooi. Hy voel of ’n trein met tien koletrokke oor hom is, sy mond is droog en as hy probeer sluk, sit sy tong aan sy verhemelte vas. Charlie maak sy ander oog ook oop; ’n streep sonlig val vanuit ’n hoë tralievenster deur die stowwerige lug op sy gesig en hy kruis sy arms oor sy voorkop. Sy lyf vra weer na daardie swewende heerlikheid, die paar oomblikke ná die naald, voordat alles swart word. Hy onthou iets soos ’n groen woud met baie skaduwee en blomme en yskoue kabbelende waterstrome, weg van al die swaarkry van hierdie wêreld. Daar was musiek, hy is seker daar was musiek ook – strelende sagte vioolmusiek wat draai en kalmeer en saam met sy lyf deur die boomtoppe gesweef het. Dit is dus hoe dit voel om ’n junkie te wees … “Vergeet dit, ou vriend,” sê ’n skor stem van iewers aan die ander kant van die vertrek, “daar’s nie regtig so ’n plek nie. Ek weet, ek was ook al daar.” Charlie kyk vlugtig, kreun en knyp sy oë toe, moenie sê dis nog ’n bleddie kamermaat met ’n pyp en ’n wit Mosesjas nie. Charlie buig sy linkerbeen sodat hy darem nie so oopkastrol voor ’n vreemdeling lê nie; ’n man kan nie vandag se dae te versigtig wees met vreemdelinge nie. “Ek weet jy is wakker, het jou sien rondloer.” Weer dieselfde stem. “Die beste is om regop te kom en water te drink. As jy so bly lê, gaan jy vrek.” Charlie dwing sy oë oop, draai sy nek. Dit ís ’n sel, ook met die sandsteen van die omgewing gebou en met ’n nuwerige plafon van beton en ’n swaar bo-en-
onder-deur wat met yster versterk is. Hy swaai sy bene van die bed af. Waar sou daai spookstem vandaan kom? Dit is ’n langerige vertrek, sien hy nou, wat deur dik tralies afgeskort is om twee selle te vorm, elk met sy eie hoë tralievenster en houtdeur. Dit moes seker jare terug die plaas se stalle gewees het; selfs die baksteenkrip is nog daar teen die agterste muur. In die sel langsaan sit-lê ’n man op ’n bed, sy rug teen die muur. Hy het ’n souten-peper baard en ’n bos swart hare; sy kakiekortbroek en -hemp met die blou sakke is gekreukel en vuil. ’n Paar stewige Cat-stewels staan voor die bed en ’n verbleikte velthoed hang aan die voetenent, die sweetband en breë rand swart gevlek deur sweet. Charlie sien nou dat hy verniet bekommerd was oor sy kaal gat, hierdie perd kolf ooglopend vir die regte span. “Daar’s drinkwater voor jou bed,” sê die man en beduie. ’n Groot enemmelblik met water staan op ’n leё teekis voor Charlie se bed. Sy denim, geruite hemp en blou trui lê langs die beker, gewas en netjies opgevou. Charlie spoel sy mond uit en neem eers een versigtige sluk van die koel water voordat hy die blik ledig. Hy druk sy neus onder sy kieliebak in … Iets is fout. Iewers het hy bespuit geraak met moffie juice wat baie lekker ruik. Daar is g’n teken van ’n sweetreukie nie. Dalk is hy rêrig in die hemel! “Hulle het jou gebad en jou klere geskrop toe jy in droomland was.” “Wie?” Charlie skrik half vir die kraak in sy stem; hy klink vir homself onherkenbaar. “Die susters van die gemeente.” Susters? Charlie is egter te ingenome met sy nuwe voorkoms om dadelik te antwoord. Fok, hy het laas so lekker geruik toe sy ma nog sy doeke omgeruil en sy boude met Johnson & Johnson gepoeier het. Hy voel aan sy gesig, die baard is nog daar. “Ek het gesê hulle moet jou baard los, mens weet nooit,” sê Charlie se buurman. “As jy nog water wil hê, bel kamerdiens.” Hy verskuif effens op die bed en kry sy rug in ’n gemakliker posisie, lag dan as hy sien hoe Charlie in sy sel rondloer. “Nee, daar’s nie regtig ’n telefoon nie. Moer sommer met die blik teen die deur, dit werk gewoonlik.” Die man betrag Charlie van onder ’n paar woeste wenkbroue. “Ek is Calla van Niekerk,” sê hy.
Charlie staan swaar op en sukkel hinkend na die kommode met die stink emmer wat in die een hoek staan. Hy maak sy blaas leeg en stap dan terug na die bed. Sy klere ruik na Sta-Soft. Die onderbroek is meer gat as materiaal en dit is seker nou tyd om dit agterstevoor aan te trek. As hy eendag weer by ’n Pep kom, sal hy ’n paar nuwes moet kry, ’n man kan nie so rondloop nie … Sê nou hy kry ’n gelukkie! Gmf! Om wat mee te maak? “Ek’s Charlie,” sê hy terwyl hy sy tekkies vasknoop. “Charlie wie?” Hy gaan lê steunend op die bed. “Sommer net Charlie, dis genoeg.” Ná ’n ruk vra hy met ’n sug: “Wat maak jy hier?” “Ek weet te veel.” Charlie oordink die antwoord ’n ruk voordat hy weer praat. “Waarvan?” Die man lig sy bolyf van die muur, en kom dan heeltemal regop op die bed, staan en staar na buite met sy elmboë op die klipvensterbank. Hy is ’n lang, frisgeboude man, sy arms en bene bruingebrand, sy gesig ook, behalwe die wit stuk voorkop waar die son seker nooit onder die velthoed se rand inkom nie. Hy het ’n paar swart rugbykouse met twee wit strepe aan wat soos opgerolde worse om sy enkels hang. “Ek boer naby Newcastle, nie ver van hier nie,” sê die man. Hy staan steeds stil en staar na iets anderkant die tralies. “My … my vrou het agter hierdie klomp verdomde hippies begin aanloop. Sy het ’n ding gehad vir hulle leier en dit waarvoor hulle staan: liefde en vrede vir almal.” Hy grinnik. “Vrye liefde en tik as jy my vra. Kyk net hoeveel liefde en vrede het hulle vir ons twee gegee.” Ag hel, dink Charlie. Hulle het ten minste sy smerige klere en agterent gewas, en hy het wragtag nie ook nog krag vir hierdie man se huismoleste nie. Elke sport het maar sy beserings, het sy pa gesê toe Ma die pad gevat het. Wat vir hom wat Charlie is nou belangriker is, is om meer uit te vind van hierdie plek. Watse mal plek is dit presies, hierdie hool met sy vaders en broers en susters en tik en die hel weet wat nog. As jy wil uitbreek uit ’n plek, moet jy jou huiswerk goed doen; jy moet weet waarvoor jy jou inlaat. Hier gaan hy nie bly nie. Geen spul weird dropouts met rokke gaan hom hier hou en ’n druggie van hom maak nie!
Maar oukei, die ou langsaan is sy enigste bron van inligting, laat hy dan maar probeer. “Wat het van jou vrou geword?” vra Charlie so vriendelik moontlik. Die man se kneukels word wit om die tralies. “Die hoofpoephol, die een wat hulle Vader noem, het glo ’n visie gehad dat die Groot Vader haar vir hom as vrou bestem het. Hy praat van ‘die ring van samevoeging’. Nou ja, hierdie ring, sê die poephol, is om hulle voltrek, maar ek sê vir jou dit het nie gebeur voordat sy vyfhonderd van my beste vleismerino’s vir hom gegee het nie, en dit het gebeur toe ek vir besigheid in die Kaap was.” Hy slaan met sy vuiste op die vensterbank. “Hy kan haar maar hou, sê ek vir jou. Hy moet haar vat, sy’s nou gebruikte goedere.” Hy kyk Charlie aan met vlammende oë, sy gesig hoogrooi. “Maar ek soek my verdomde skaap! Dis stoetooie daai. Dit hou ook nie op nie, ek weet nie of daar nog iets van my plaas oorgebly het nie.” Charlie se kop verwerk die inligting stadig. Al waaraan hy kan dink, is dat Vader ou Calla se vrou lankal verruil het vir die witkop-poeding met die groen oë. Sou Calla dit weet? Arme bliksem, vyfhonderd stoetooie is seker ’n moerse klomp geld. “En … en as hy moeg is vir haar?” vra hy. Calla klim van die bed af, begin heen en weer in die sel stap. “Kry vir hom ’n ander een. Daai vent het meer koerasie as ’n Bovelderbul in ’n kamp bronstige Drakensbergerkoeie. Wat hulle in die maergat sien, weet die hel alleen. Miskien is daardie lang nek van hom nie die enigste ding wat lank is nie.” “En sy? Wat word dan van haar?” “Die langnekbliksem sal wel iemand kry vir wie sy ‘herbestem’ is. Daar is seker al honderd of meer siele in hierdie kolonie.” “Hoekom is jy nie na die pote toe nie? Hel, vyfhonderd skape!” “Ek wou eers kom kyk wat hier aangaan.” Hy glimlag wrang. “Toe sluit hulle my toe.” ’n Ruk is dit stil; Charlie volg Calla se heen-en-weer-stappery. “Toe my vrou hier betrokke geraak het, het ek navorsing gedoen oor kultusse soos dié.” ’n Ruk lank weer net Calla se voetval. “Daar was baie van hulle, veral in Amerika. Die People’s Temple van Jim Jones in Jonestown, Guyana. Die donner het meer as negehonderd mense, mans, vroue en kinders laat gif drink toe sy gat vasgedraai het.”
“Ek kop dit nie,” sê Charlie. “Wat maak dat mense so agter een paloeka aanloop, sulke dinge doen?” “’n Vent soos Jim Jones, of Charlie Manson van die Moonies, is gewoonlik baie charismaties met ’n baie sterk persoonlikheid. Jy het mos die slangnekbliksem gesien daar binne. Hy maak vir hom ’n klomp onseker mense bymekaar en neem hulle lewe oor; hulle glo alles wat hy sê en doen alles wat hy beveel. Hy vat hulle na ’n afgeleë plek waar hulle selfonderhoudend is, soos hier, en besoekers word nie toegelaat nie. Hy neem hulle lewe so oor dat hulle selfs hulle eiendom aan hom gee: plase, huise, vee, geld, wat ook al. En alles baseer hy op die Bybel – meesal die Ou Testament. En dis baie vreemd, maar dwelms en seks, veral met jong goed, is die sement wat alles aan mekaar hou.” Charlie krap sy kop. In die tronk al het hy gewonder oor dinge soos dié. Hoe die bendes in die tronk werk. Dinge soos Hitler, hoe gewone mense ’n ou kan volg en dinge doen wat hulle andersins nooit sou doen nie. Check nou hierdie ouens hier wat tik vat asof dit Oros-koeldrank is, en nie weet dat dit is wat hulle soos nete aan Slangnek laat klou nie. Charlie skud sy kop. “Waar kry hulle al die jong goed waarvan jy praat?” Calla gaan sit op die bed met sy hande in sy bos krulhare. “As jy lank genoeg hier bly, sal jy agterkom hier is nie baie jong seuns nie. ’n Seun is hier nie veel werd nie.” Hy lê weer terug op die bed. “Dogters en jong vrouens, ja! Hulle stuur die jong manne die wêreld in om jong meisies hiernatoe te lok, en as hulle eers hier is, hou die tik hulle hier.” Voordat Charlie nog ’n vraag kan vra, is daar ’n gestamp aan een van die twee houtdeure. ’n Luik in Calla se bo-deur val oop. “Staan terug!” skree iemand van buite, en albei selle se deure ratel. Charlie kyk vraend na Calla. “Oefeningtyd,” sê die boer en begin sy stewels oor sy kouse trek. “Onthou, hulle is darem soort van Christene, en die skyn moet gehandhaaf word. Kom ek gaan wys jou die plek, maar moet niks probeer nie. Hulle lagie Christelike vernis is maar baie dun.” Buite lyk dit asof die son soos ’n rubberbal hoog vanuit die byna wit lug op die groen gras gaan bons. Beboste klowe en sagter voue in die landskap maak donker strepe teen die rante en deinende heuwels wat Charlie kan sien waar die
groot kloof uitloop op die vlakte. ’n Ent weg, duskant ’n heining, lê ’n hoop rotse wat beplant is met groot aalwyne om ’n soort rotstuin te vorm. Anderkant die heining om die kompleks skiet die kloof se wande op na dieselfde kruinrotse waar hy amper sy agterent gesien het. Die twee tronkselle is ’n ent van die huis af, sien Charlie nou, waar die kloof op sy steilste is en begin oopmaak en in ’n suidelike rigting op die vlakte begin wegdraai. In die verte is blou pieke, moet die Drakensberge wees. Tussen die tronk en die huis is ’n groot wit dubbelverdieping wat lyk soos ’n skoolkoshuis. Dit pas glad nie by die sandsteen van die huis en die ou stalle nie. “Woonkwartiere en eetsaal,” sê Calla as hy sien waarna Charlie loop en kyk. “Waar die manne met hulle vadergegewe skelmpies bly.” Hy sit met sy vingers aanhalingstekens om die woord “vadergegewe”. Hulle stap stadig in die sanderige tweespoorpad af. Broer Gerrie en nog ’n swartgeklede boetie volg hulle, albei met broederlike liefde en ’n AK gewapen. Charlie merk dat hy nie die enigste een is wat sukkel om te loop nie; Gerrie hink self nog half wydsbeen, asof hy pas van ’n perd geklim het. “Dis ver genoeg,” grom Gerrie toe hulle voor ’n hoë draadhek kom. Anderkant die hek loop die twee wit sandspore verby ’n paar rondawels tot waar dit om ’n draai van die kloof verdwyn. “Waar gaan dié pad heen?” vra Charlie binnensmonds aan Calla. “Die volgende plaas, in ’n beboste kloof om die draai … ’n mooi plek. Daar is pragtige groot geelhoutbome in die klowe ook.” Calla se oë soek van onder die breërand oor die veld. “Dit is waar alles gebeur.” “Hoe bedoel jy?” Calla loer na die twee wagte wat eenkant op ’n klip sit en rook en praat dan sagter. “Ons is hier nie ver van die Swazilandse grens nie. Hulle bring die blokke kokaïenpasta en ander grondstowwe vanaf plekke soos Colombia, Bolivia en Peru deur Maputo en dan Swaziland die land in. Van daar af is dit ’n kort vlug met ’n helikopter tot hier waar dit verfyn word tot kokaïen.” Calla kyk weer ’n slag stil en grimmig na die wagte. “Hulle maak die verdomde tik ook daar op die plaas,” sê hy dan. Charlie kyk hom met ongeloof aan. “Wil jy nou vir my vertel hier is ’n
dwelmfabriek, hier in die boendoe tussen die berge? Om wat mee te maak, en wat van werkers in die fabriek?” “Dis wat dit so oulik maak, waar wil jy ’n beter plek kry? Niemand vermoed iets nie, hulle is dan so ’n Christelike spul wat boer met skape en beeste en wild. Hulle is selfs betrokke met die swartrenoster se bewaringsprogram. Behalwe vir die bietjie wat hulle self gebruik, versprei hulle die goed van hier af deur die Vrystaat en dan van daar verder die PWV-gebied in.” “Loop jou skape ook op dié plaas?” Calla trek die velthoed se rand laer teen die skerp sonlig en staar met skrefiesoë na die swart stippels ver op die groen vlakte. “Die vee loop op ’n buurplaas, dié kant toe.” Hy beduie noordwaarts met ’n stuk tamboekiegras waaraan hy loop en kou. “Nog ’n geskenk aan ‘Vader’ van ’n dankbare boer wat deur die langnekbliksem van ’n spiksplinternuwe jong lewensmaat voorsien is nadat dit in die Groot Boek aan hom ‘geopenbaar’ is.” Calla gee die grasspriet ’n paar driftige koue voordat hy dit eenkant toe spoeg. “Dit is ongelooflik wat party siek bliksems sal doen net om by ’n sewentienjarige meisiekind in die bed te kan spring.” Calla trek nog ’n stuk gras uit, stroop die saad en blare af. “Wat ’n verdomde mal spul!” Hy kou ’n ruk ingedagte en vervolg dan: “Nee, jy sal nie vee op hierdie grond kry nie. Dis ’n wildsplaas hierdie; in daardie rante en klowe is daar nog leeus, luiperds ook. As jy hier wil uitstap, is die kanse goed dat iets jou gaan opvreet en …” “Kom, dis genoeg!” val broer Gerrie hom bars in die rede. “Laat julle teruggaan.” Terwyl hulle terugstap, sê Calla sag: “Kan jy sien waarom ek sê ek weet te veel? Nou weet jy ook te veel, en ons moet hier uitkom om die wêreld te gaan vertel wat hier aangaan. Maar dit sal nie maklik wees nie; hulle sal ons nie sommer net laat gaan nie.”
14
“Nou wanneer het jy dit die eerste keer gesien, ou Moos?” vra die polisieman aan die man met die verlepte velthoed en die sweep oor sy skouer. “Nee, Sarge, vroegoggend al.” Die ou man stoot die hoed met sy duim terug op sy kop en loer na die oggendson wat nou vier vingers bokant die bosbegroeide rant oorkant die rivier hang. Hy trek sy moeë, waterige bruin oë op skrefies; sy gesig lyk soos ’n stuk ou leer wat te lank in die son en wind en reën gelê het. Hy druk die pruimpie met sy tong stewig agter sy kiestande vas en spuug dan ’n bruin blerts na ’n blou naaldekoker wat op ’n biesiepol se hoogste punt sit voordat hy aangaan. “Nee, soos ek loop vroeg by die oggend hier om die skaap by die ranteveld te vat, sien ek die anderste soort ding doer tussen die snotterbelle deuskant by die riete.” Die grotesk opgeblase liggaam van ’n vrou het vasgedryf teen die riete en hiasinte wat ’n deel van die rivieroewer ingeneem het. ’n Paar kwetterende geelvinke sit met draaiende koppe ’n swartkraai en dophou wat iets draderigs uit die lyk se wit uitgewaste skouers trek. ’n Baber of ’n likkewaan of iets stamp vanuit die donker dieptes teen die lyk, die kraai gee ’n lui wip sywaarts en die vinke fladder op en dan weg oor die riete. ’n Slanghalsvoël wat rustig verbyswem op soek na ontbyt klap homself uit die water uit op, en die skerp oggendson blink op sy nat vlerke waar hy by ’n klomp wit veeryers op die droë tak van ’n wilgeboom gaan sit en sy vlerke uitsprei om drooggebak te word. Blou-en-rooi naaldekokers sigsag oor die plate hiasinte, en waar die sonlig op oop kolle water blink, kring watergoggas al wyer en wyer. Nou en dan draai of spring ’n vis, en die polisieman op die rivierbank swaai sy verkyker na die rimpels op die watervlak, dan weer terug na die wit vlek in die plaat groen hiasinte. Sersant Renier Saayman laat sak die verkyker, kyk afwagtend na die man langs hom se verrimpelde, sonverweerde gesig. “Ja, en wat doen jy toe?” Moos Sitheng vertel in Sotho-gekleurde Afrikaans dat hy op die lyk afgekom het en toe by een van die plaashuise gaan bel het.
“Dit wás ’n mens orraait,” sê Saayman. “En die visse en die krappe het ook al hulle deel gedoen. Die lyk moet al lank in die water wees.” Die ou veewagter antwoord deur ’n blerts pruimsop tussen die biesies in te spoeg. Die naaldekoker wat die eerste blerts ontduik het, is dié keer nie so gelukkig nie. Die bruin straal ruk sy sitplek onder hom uit en hy verdwyn met sy rukkerige heen-en-weer-vlug oor die rivier. “Maar ek vat nie aan daardie ding nie,” sê Saayman. “Die polisieduikers is op pad.” Moos krap sy grys baardstoppels met ’n knoetserige middelvinger. “Daar is seker niks meer by die kop nie,” sê hy. “Die Groot Een, Salamôlethlaka, het hom uitgesuig.” Saayman laat sak die verkyker en kyk verbaas na die ou man. “Wie?” “Salamôlethlaka. Hy bly hier by die diep watergat.” Die polisieman klap ’n steekvlieg van sy nek af. “Nog nooit daarvan gehoor nie!” “Julle se mense roep hom Salmaklak, die groot likkewaan van die rivier.” Die polisieman lig die verkyker weer na sy oë. Hy het dié storie al gehoor. “Al weer daardie stront,” mompel hy en verstel die verkyker se fokus. “Die kop is nog daar, Moos. Daai klas van dinge gebeur nie meer nie, dis bygelowe. Ek kan die kop sien, die wit hare. Jou likkewaan het seker dié keer vergeet van die kop.” “Hy vreet nie die kop nie,” sê Moos, “net dit wat binne is. Kyk maar, jy sal nog sien, daar is niks by die kop nie.” Die ou man se oë soek-soek weer oor die biesiepolle vir ’n teiken, en in die afwesigheid van ’n naaldekoker moet ’n spoelklip tussen die grasse die bruin streep twakspoeg ontgeld. Hy draai om. “Dan loop ek maar, die skaap hy loop nou te ver.” Hy haak sy sweep van sy skouer af en stap na waar die geblêr van ooie en lammers iewers agter die struikgewas opklink.
“Hei, jy kan nie loop nie!” roep Saayman agter hom aan. “Waar kry ons jou weer? Jy sal ’n verklaring moet aflê.” Die antwoord kom uit die bosse: “Ek is maar hier op die plaas, jy weet mos, Sarge. Ek gaat nie ver nie. Julle sal my kry.”
15
Charlie het nie ’n goeie nag gehad nie. Die ou klapperhaarmatras se knoppe en al die pyne wat sy lyf die vorige nag opgedoen het, het nie met mekaar geakkordeer nie. Verder snork daardie boerseun van ’n kamermaatjie van hom soos ’n kettingsaag wat in harde hout sukkel. Charlie lê op sy rug, hande onder die kop, en staar na die plafon. Hy dink aan die dag in Pretoria toe die witkopvroumens hom by dié ding ingesleep het. Hulle het besigheid gepraat, daar by ’n buitetafeltjie van ’n koffiewinkel in Hatfield, terwyl die hele wêreld by hulle verbygeloop en die karre op straat ’n moerse lawaai gemaak het. En was sy vir hom mooi! Lang blonde hare met ’n paar oë so groen soos die van Kiets, sy ma se stasiekat. Maar as hy nou daaraan dink, was Kiets se oë net sagter, selfs wanneer hy ’n muis sat gemaak het. Hy het daar gesit en dink aan wanneer hy so naby aan iets so mooi was en hy kon nie onthou nie. En daar sit hy in ’n wolk van haar parfuum en kyk na haar, jy ruik g’n niks tronk meer nie. Daaroor was hy baie bly, want by sy ma se huis was nie warm water nie; die Raad het die krag lankal afgesny. As hy nou so lê en terugdink dan hét hy toe al geweet haar hart is so hard en genadeloos soos die ystertralies in die tronk. Ja, hy het dit gou agtergekom. Dit was nie net aan die manier waarop sy hom sit en uitcheck het nie, nee. “Is jy gewire?” was haar eerste vraag. Haar stem was so heserig, en sy het gelisp met so bietjie van ’n Engelse aksent. As sý ’n mikrofoon aan haar gehad het, weet hy nie waar hulle die ding ingedruk het nie, want in daai T-hemp en jeans van haar was daar skaars genoeg plek vir al háár eie meghefters! Met ’n hand met sulke lang rooi naels en met genoeg goud en diamante om ’n eie besigheid te begin het sy ’n groot koevert oor die tafel geskuif. “Lees dit later, al die besonderhede is daarin, sonder om name te noem, natuurlik. As jy belangstel, bel my op my sel, dan praat ons verder.” Net so. As sy tong gesleep het soos hare sou die pote hom toegesluit het vir dronk op straat, maar as sy dit doen, doen sy iets aan ’n man. “En die prys?” vra hy.
“Is tien reg?” Tien-fokken-duisend! Hel, daarvoor sal hy Zuma se gunsteling-boerbok gaan skiet! Maar al wat hy gesê het, is: “Dis reg.” Dit het hy gesê terwyl hy weg van haar gekyk het na ’n lorrie wat in die straat verbygedreun het. Hy wou dit nie laat klink asof hy só iets nie gewoond is nie. “Daar’s ’n duisend in die koevert, vir al jou moeite so ver.” Hy kon skielik die groen oë sien blink, en dit was dalk net omdat sy hom klaar gelees gehad het. “Moenie met jou kar kom nie, dit trek net aandag. Ek sal jou op Volksrust by die Wimpy kry. As ek laat is, eet solank ietsie,” het sy gesê sonder dat haar oë beweeg het. ’n Kar! Waar sou hy aan ’n verdomde kar gekom het? Duimry was veiliger, want niemand wíl jou raaksien nie, veral nie as jy lyk soos iemand wat nog in die tronk hoort nie. “Bel my,” het sy gesê en ’n vyftig op die tafel neergeplak. “Vir die koffie en botterbroodjies. Hou maar die kleingeld. Die skietding sal ek op Volksrust vir jou gee.” Sy het opgestaan en weggestap. Dis wat hy nou nog so goed onthou, daai wegstap. “Ja-uh.” Hy sug en draai op sy sy. As hy haar maar eerder moer toe gestuur het in plaas van gehipnotiseer na haar aanloklike agterent gesit en kyk het.
Charlie het pas die oggend se laaste lepel krummelpap afgesluk toe ’n Rambo met swart klere en kouende kakebene hom kom haal. “You’ve got a visitor,” grom hy toe hulle buite is en hy beduie met sy AK se loop na die rotstuin. Charlie herken haar. Sy het nou ’n doodgewone rok aan wat deur die oggendluggie teen haar bene vasgedruk word; sy hou haar hare met haar linkerhand uit haar oë. Charlie loop haar stadig tegemoet. Sy gaan sit op een van die klippe en beduie na een van die klippe langsaan. Charlie kyk eers na die wag wat so twintig meter van hulle op sy eie kluit sit en kougom kou, gaan dan sit. Sy kyk hom nie in die oë nie, merk hy. Net een keer vlugtig, en toe lyk die groen katoë vir hom dof en bekommerd. “Ek het hulle nie geskiet nie,” sê sy ná ’n ruk. “Ek moes jou net daar aflaai.” Sy
praat sonder om hom aan te kyk. “Jy moet my glo. Ek moes jou net op die plaas kry en jou met die pistool by die hek aflaai. Hulle sou vir die res sorg.” Sy vee die blonde slierte hare uit haar oё, kyk vinnig na Charlie en dan weer weg. Wat kan hy sê? Hy vertrou haar nie. Die dag in Hatfield met die koffiedrinkery en toe sy hom by die Wimpy in Volksrust opgelaai het, was haar toneelspel perfek – jy kon haar ’n Oscar gee. Hy het haar geglo. Maar nou sit hy hier en aambeie kry op ’n koue klip tussen die berge, so diep in die dinges dat as iemand die kleinste golfie maak hy in sy moer in sal wees. Hoe hy sonder hulp uit dié plek gaan wegkom, weet hy ook nie; die ou Hilux staan seker steeds met sy neus teen die rots en het in elk geval sy laaste hoes gehoes. Daarby sê Calla as hy gaan probeer voetslaan, sal die bleddie leeus en die tiers en die renosters en ander ergerlike goed hom opvreet. Daarom kyk Charlie haar net aan, sê niks. “Ek was ’n gek,” sê sy. “My gedra soos ’n verliefde bakvissie, ’n volstruis met rooi hakskene. ’n … ’n Vriend het my op ’n keer hiernatoe gebring om na een van sy dienste te luister en toe ek hom sien …” Sy krap met ’n vinger in die sand tussen haar voete. “Sy oё het my soos ’n slang gehipnotiseer, nader getrek, gevange gehou. Dit … dit was die begin van alles.” Sy kom regop en hy sien sy huil. Sy vee die trane met die agterkant van haar hand af, snuif ’n slag en kyk hom dan die eerste keer vierkant in die oë. Pleitend. “Jy móét my glo, ek … ek het jou hulp nodig …” Charlie se mond val oop. “Mý hulp nodig! Fok, sussie. Dink jy ek is verdomp stupid?” Hy staan op, pluk sy ou denim vererg aan ’n lussie op, buk af na haar en druk sy vinger onder haar neus. “Luister, skattebol, my ma se kinders was nie mooi nie; ons was ook nie juis slim nie, maar ons was not ’n donner stupid! Ek hou nie van jou nie, en weet jy wat? As daardie gorilla met die swart suit en die geweer nie daar gesit en kougom vreet het nie, het ek jou verdomde nek nou omgedraai, sommer net hier. Los my uit jou schemes uit.” Charlie swaai om en hink terug na sy sel. “Wag! Asseblief, hoor net wat ek wil sê!” roep sy agter hom aan. Charlie hoor hoe die wag sy geweer span; hy steek vas, en die man beduie hy moet weer gaan sit. Charlie draai stadig om, sorg dat sy gesig presies wys wat hy van die storie dink. “Ek moet jou hier uitvat, polisie toe, op Volksrust,” sê die witkop toe Charlie
weer voor haar staan. “Dit is wat Vader my beveel het. Dit is wat ek vir jou moes kom sê het.” Weer val Charlie se mond oop. “My hier uitvat! Fok, vroumens, dink jy my kop is dof?” Hy bly stil, kyk links, regs, swaai sy kop soos ’n kwaai bul. Dan sug hy, hy weet om die moer in te word gaan hom nie help nie. “Toe, sê jou sê,” brom hy. “Ek moet vir Calla gaan help om sy sokkies te was of te stryk, of wat ’n mens ook al met sokkies doen.” “Hy … Vader, wil die plaas hê, maar dit kon nie. Dit was Hans, my oorlede man s’n. Die testament het bepaal dat as Hans tot sterwe kom, sy ma sou erf, vruggebruik sou hê tot haar dood. Ek en my seun sou eers ná haar dood die eienaars word.” “Toe kry jy vir my, Kiepie-die-koekoe, om die joppie te doen sodat jy en Vader die plaas kon kry.” “Nee!” Daar is weer lewe in die groen oё. “Ek … ek het toe nie gedink nie, maar nou … Jy moet my glo, jy is my enigste hoop.” “Gmf! Dan hét jy nie ’n hoop nie!” Charlie pluk ’n grashalm uit die grond, stroop die blare af en sit die soet kant in sy mond. Hy het gesien dit werk vir Calla as hy moerig raak. “As jy niks daarmee te doen wou gehad het nie, hoekom het jy dit dan gedoen? Hoekom het jy nie net jou rug op hierdie mal plek gedraai en padgegee nie?” “Hy het my seun,” sê sy sag, haar kop geboë, oë nou weer op die grond gerig. “Hulle het hom met die helikopter hier weggevat, iewers heen.” Sy vee die trane met ’n snesie af en blaas haar neus. “As ek nie saamgewerk het nie, sou ek hom nooit weer gesien het nie.” “Hû?” ’n Oomblik kan Charlie nie sy opgewondenheid bedwing nie. Die laaitie leef dus nog! Dankie, liewe donner! Maar dan vee Charlie letterlik sy glimlag van sy gesig. Nou moet hy vinnig dink. “Hoekom gee jy nie net vir hom die plaas en kry klaar nie?” sê hy en kyk hoe die wind die hare oor haar skouers roer. “Dan kom jou laaitie terug en julle kan tot in ewigheid gelukkig saamleef, hier in die kloof van ewige genade.” Sy kyk op na hom, skerm die son uit haar oë. “Ek … ek twyfel nou. Ek dink hy gaan my los as hy eers die plaas het.”
“Het jy die seun weer gesien nadat jy klaar was met jou schemes?” Sy skud haar kop. “Nee, Vader sê net dat hy veilig is, en dat hy hom sal terugbring as die stof gaan lê het, die boedel afgehandel en die plaas aan hom oorgedra is. In hierdie stadium doen ek net wat hy sê, gaan aan met my lewe. Kom gereeld op die dorp ook. Hy is bang ek word as vermis gesien en dan krap die polisie dalk op die verkeerde plekke. Maar ek is so bang …” “Hoekom gaan jy nie net polisie toe nie?” “Hy … hy sal my en my kind laat doodmaak, soos vir Hans en sy ma.” Sy bly ’n lang ruk stil. “Wie sal my in elk geval glo? Ek het geen bewyse nie.” “Wie het jou man en die ouvrou geskiet?” Charlie moet dít net weet. “Ek vermoed dit moet van die veiligheidswagte wees. Daardie dag toe ek jou op Volksrust gaan oplaai het, is ’n klomp van hulle met die helikopter hier weg, na die plaas toe. Ek dink dis dieselfde klomp wat jou later daardie nag opgelaai het. Hy was bang dat jy gaan wegkom, dan het al sy planne nie gewerk nie. Jy was met jou geskiedenis die perfekte sondebok. Op die plaas het hulle vir Hans en sy ma geskiet en ’n toestel in die Hilux geplant om jou te kan volg.” Charlie stap weer ’n ent weg. As die weer nie daardie nag so vinnig toegesak het nie, sou hulle hom dus baie vroeër gekry het. Twee bont kiewiete vlieg skellend uit die gras, draai ’n paar keer om sy kop en gaan sit ’n entjie weg, hardloop kopskuddend verder, kom weer terug, hardloop weer. Hulle probeer hom weglok van waar hulle nes en kleintjies ook al weggesteek is. Is die witkop nie maar dieselfde nie? Sy en die man met die Mosesrok het lekker gekapater hier in die kloof, maar nou dat haar seun ook deel van die paartie is, dink sy anders. Die enigste goeie nuus is dat die bleddie kind nie in daardie ou kliphuis verbrand het nie. Charlie gooi ’n klip na die voëls, en hulle vlieg weer met ’n groot lawaai op, duik op hom af – hy moet baie na aan die nes wees. Hy draai terug na die rotstuin. “Wat wil jy hê moet ek doen,” vra hy toe hy weer binne hoorafstand is. “En wat is daarin vir my? Jy skuld my nog negeduisend, wat word daarvan?” “Ek … ek het nie nou die geld nie, maar ek kan jou hier uitkry en … ek is die enigste mens wat kan getuig dat jy Hans-hulle nie geskiet het nie.”
Fair enough, dink Charlie. Daar is sy seker reg. “Wat moet ek doen?” vra hy. “My seun gaan soek.” Charlie kan nie sy lag hou nie. Fok! Sy skuld hom negeduisend en nou wil sy hom die wye donnerse wêreld instuur om te soek na haar kind. Te voet? “Ek dink jy is mal in jou kop, skattebol. Ek het nie eens ’n fiets nie, en waar de hel moet ek hom in any case gaan soek?” “Ek dink ek weet waar hy is. Jimmy daar,” sy beduie na die man in swart wat eenkant sit en kou en rook, “was in die helikopter wat met hom hier weg is. Hulle het hom iewers in die Vredefortkoepel gaan aflaai, by ’n boortoring of ’n ding. Hulle vlieg gereeld soontoe om goed te gaan aflaai.” Charlie kyk haar stil aan. Kyk, dat hy hier moet uitkom, is ’n feit soos ’n koggelmander. Die ding is net dat soos dinge nou staan, staar hy lewenslank in die gesig, en dit vir twee moorde wat hy nie gepleeg het nie. As hulle hom vang, gaan hy sit. Sy reputasie tel teen hom, en as iemand nog vir die pote vertel van die kontrak en die feit dat sy hom daar afgelaai het … Charlie krap sy nek en tuur met een oog styf toe in die lug in. Mmmm. Dit is nou ook nie juis dat hy so besig met iets anders sal wees dat hy nie tyd sal hê om in die koepel rond te hang nie. Of daar te verdwyn, ten minste totdat die stof gaan lê het. “Asseblief?” Sy kyk pleitend op na hom. Kan dit wragtag wees … “Jy móét my help. Hulle dink nie baie van seuntjies hier nie … en as hy eers terug is, is ek ontslae van dié plek en kan ek jou geld ook vir jou gee.” “Hoe kom ek hier uit?” Charlie sorg dat hy nie te gretig klink nie. “Ek en Jimmy daar is veronderstel om jou môre na die polisiestasie op Volksrust te vat, saam met die pistool – ons sal moet sê dis die een wat jy gebruik het – en van die goed op die Hilux, dis nou die goed wat jy sou gesteel het. Ons plan is egter dat jy ons iewers langs die pad oorrompel en dan ontsnap.” Charlie dink skielik aan die skeur waarin hy met sy vlugtog amper sy nek gebreek het. “Daardie skietding sal jy nie weer sien nie,” sê hy met ’n skewe laggie.
“Die een wat jy gehad het, is nie die vuurwapen wat hulle gebruik het nie,” sê sy, maar lig haar hand toe Charlie iets wil sê. “Ons sal jou wel hier uitkry, dis nie ’n probleem nie.” Charlie kyk skepties na die gewapende jong man. Dié Jimmy kan duidelik nie sy oё van haar afhou nie. “Moet nie bekommerd wees nie,” sê sy en knik in Jimmy se rigting, “hy sal doen wat ek sê.”
Calla is op die sementvloer besig met opstote toe Charlie inkom. Hy spring regop en kyk vraend na Charlie, wat op sy bed gaan sit en met sy hande tussen sy knieë geklem begin vertel. “As jy iets goed wil doen met jou lewe, gaan soek daardie laaitie en vat hom na ’n veilige plek,” sê Calla nadat hy na Charlie se relaas geluister het. “Vat hom na ’n plek buite bereik van hierdie spul,” sê hy en vee sy gesig met ’n handdoek af. “Ek weet nie wat die testament sê nie, maar soos dit vir my lyk, erf sy en die laaitie saam, en dan is dit nie so maklik vir haar om sommer net die grond af te teken nie.” Calla gaan sit op die bed, trek sy vingers deur sy bos natgeswete hare. “Tensy die seun natuurlik ’n ‘klein ongelukkie’ kry, of net verdwyn.” Charlie gaan lê op die harde matras met sy hande onder sy kop. “Die moeilikheid is, ek kan die bitch nie vertrou nie.” Calla gooi die handdoek in ’n hoek van sy sel. “Ek dink sy hoop ook jy verdwyn in die proses. Sy kan nie juis ’n hofsaak bekostig nie, nie met haar reputasie nie. Ek meen, sy hét jou gehuur om haar man te vermoor, wie dit ook al gedoen het.” Charlie draai op sy sy. Daar is weer ’n donner met ’n hamer in sy kop doenig – dis van die stront wat hulle hom ingespuit het. “Ek wil self weet van die kind,” mompel hy en maak sy oë toe.
16
Twee dae later, vroeg die oggend, het die witkop en haar handlanger vir Charlie kom haal, hom vasgebind en in ’n Mercedes-sportnutsvoertuig geboender. Die handlanger, Jimmy, het bestuur en sy het voor langs hom gesit, af en toe haar hand vertroulik op sy been gesit en iets vir hom gefluister. Charlie het die pad probeer volg, maar omdat hy nie geweet het waar hulle was nie, of presies waarheen hulle op pad was nie, het dit nie veel gehelp nie. Volksrust het sy gesê, maar wat sy sê en wat sy doen … Hy het net ’n idee gehad dat dit nie die laaste sien van Vader se koninkryk was nie. Die ou Hilux het steeds op dieselfde plek gestaan – neus opgefrommel teen ’n groot rots en swart gebrand in ’n kol verskroeide gras. Van sy “buit” was daar egter geen teken meer nie. In ’n stadium het hulle van die tweespoorpaadjie afgedraai, by die groen padwyser vol skietgate, links op ’n groterige gruispad. Daar het hy begin rigting kry; die Kliprivier kon hy ver na regs in die oggendson sien blink. Vir Volksrust moet hulle oor daardie blink stroom water, so Volksrust is dit dan tog nie. Die tweetjies voor in die voertuig steur hulle nie veel aan hom nie, het net ogies vir mekaar. “Waarheen gaan hierdie pad?” vra hy toe die stilte vir hom te veel begin word. Nie een van die twee kyk om na hom nie. “Vrede,” is al wat die witkop sê terwyl sy met so ’n skaapagtige glimlag na Jimmy bly staar. Te hel met hulle. Daar is genoeg buite om hom besig te hou. Die sagte groen heuwels is baie interessanter as hulle gevroetel – die vent moet net nie die kar omneuk nie! Die plaashuise is ver uitmekaar en daar is min lande, dis veewêreld hierdie. Oral teen die rante en in die laagtes wei skape en beeste in die rooigras; dit lyk vir Charlie of die vee se enigste bekommernis in hierdie geil wêreld is om met swaaiende sterte en klappende ore die muggies en muskiete uit hulle ore en
ander sensitiewe plekke te hou. Swerms wit veeryers stap saam of ry sommer op die beeste se rûe om te aas op wat hulle gashere opjaag. Wildemakoue, kolganse en geelbekeende vlieg tussen die spruite en plaasdamme op soek na daardie ekstra spesiale happie modder, watergras of wat hulle ook al aan die vreet is. Bloureiers staan paalstil en wag vir ’n padda of ’n gogga of ’n ding om ’n verkeerde beweging te maak – amper nes die boere met die knuppels in die tronk: maak ’n move en ek zap jou! Charlie het die vorige nag lank aan Calla se woorde gelê en dink: “As jy iets goeds wil doen met jou lewe …” Hy was nog altyd soos ’n veeryer wat vir sy bestaan van ander se bewegings afhanklik was. Dalk is dit nou tyd om soos ’n reier te word en self vir hom te sorg, van rigting te verander voordat sy hande so aan die bewe gaan van die ouderdom dat hy nie eens meer die waenhuis sal kan raak skiet nie, laat staan nog die deur. Dit is die probleem met ’n beroep soos syne, die een of ander tyd moet jy halt roep, en daar is nie pensioen nie. Hy sal iets moet doen, ’n werk kry en probeer om soos ’n gewone mens te leef. Charlie se oë volg ’n ribbok wat oor die pad begin trippel, die motor sien aankom en dan vervaard omvlieg en weer in die lang gras langs die pad verdwyn. Dit is hy daardie, dink hy met ’n grimmige uitdrukking op sy gesig, hy het al probeer om ’n eerlike werk te doen, net om weer om te vlieg as die verantwoordelikheid te groot word. Miskien is daar in hierdie koepel waarvan hulle praat vir hom ’n kans om weer van rigting te verander. Om na die seun te soek is tog iets, dis nou te sê as hy nog leef. Hy voel sterk vir die witkoplaaitie, al ken hy hom nie. Hy is bekommerd oor hom. Hy sal wel versigtig moet wees, hier is ander dinge aan die gang as net ’n ontvoering. As hy die seun kry, sal hy goed moet dink of hy hom vir sy ma gaan gee … Hy vertrou nie die witkopteef nie. Calla was dalk reg, en hy wat Charlie is wil nie die oorsaak wees dat die mannetjie ’n ‘klein ongelukkie’ kry nie. Die pad word al slegter, vol sinkplaat en draaie en verweerde laagwaterbruggies. Charlie wens Jimmy wil eerder sy oë op die pad hou en die witkop se bobeen los. Netnou kry nie een van hulle ooit pensioen nie!
Hulle het Charlie uiteindelik anderkant Vrede op die R103 afgelaai. Daar het ’n vragmotor wat steenkool karwei hom opgelaai en tot in Sasolburg geneem. Dit lyk vir Charlie dat as jy so vuil en verwaarloos lyk soos hy, net die
steenkooldraers dit waag om jou op te laai. Buite Sasolburg het hy gestaan tot dit donker geword en die reën begin uitsak het. Onder ’n brug het ’n paar boemelaars vir hom ’n Defy-yskas se kartonboks gegee vir ’n matras en ’n paar slukke bloutrein vir ’n slaapmiddel. Nou is hy hier tussen Vredefort en Parys waar ’n boer met ’n leë veetrok hom afgelaai het. Dis waar hy nou op ’n klip sit om behoorlik droog te word en die rantjies goed te bekyk. Dis nou die koepel waarvan hulle praat. Hy het al van die plek gehoor, dat dit een of ander heritage site of ’n ding is. Gisteraand onder die brug het die manne gesê die mense daar is oukei, help graag ’n man wat in die dinges is. Van hier af lyk dit egter nie na veel nie, net na ’n paar donker beboste rantjies, niks meer nie. Charlie haal die foto van die seun uit sy toksak. Die witkop het dit wyslik in ’n plastieksak gesit, teen die reën en sy vuil pote. Hy skat die laaitie so by die drie jaar en hy het sy ma se wit kop en blou oë. Dit is eintlik ’n mooi kind, ’n onskuldige kind soos hy daar op die foto sit met ’n teddiebeer in sy hande. Charlie bekyk weer die donker rantjies op die horison. Van hier af lyk dit nie na ’n plek vir ’n kind sonder ma of pa nie. Die kind het nou vir Charlie ’n missie geword. As hy daar tussen daai rantjies is, sal hy hom kry. Maar hy sal iets moet kry om te doen, ’n werk of iets, hy kan nie net loop en kind soek nie. Charlie bêre die foto weer sorgvuldig en staan met ’n sug op. Hy is vuil, sy asem stink na die bloutrein en bruinbrood van gisteraand en hy voel self of ’n trein hom getrap het. Selfs Pretoria Sentraal se matrasse is sagter as ’n Defyyskasboks op ’n stuk sement onder ’n brug. Die wind het ’n slag die fyn reënsproei ook nog onder die brug ingewaai. Nie dat dit sy brugmaats, daai kraaie van die nasionale paaie, gepla het nie. Hulle gooi net nog ’n tamatiekis op die vuur, sluk ’n slag uit die bottel in die bruinpapiersak en slaap verder terwyl vragmotors en karre oor hulle slaapplek se dak jaag. Fok! As hy nie werk kry nie staan hy ook een van die dae by ’n robot met ’n stuk boks om sy nek en ’n halfbottel in sy gatsak. Charlie gooi die vuil toksak oor sy skouer en begin aanstryk in die grondpad wat die boer gesê het hom koepel toe sal vat. Dalk sal dié plek vir hom uitkoms bring, én vir die seun wat hy nou gaan soek. Dit is in elk geval wat hy gisternag daar op die nat stuk boks besluit het.
17
Die groot rooidakhuis staan hoog teen die rant, weggesteek tussen rotse, soetdorings en blinkblaar-wag-’n-bietjies. Dit is gebou van die klip wat jy in dié rante kry. Toe die stamvader van dié geweste se Krugers, Tjaart Johannes, in 1836 van die ander waens van Potgieter se trek weggedraai het, het hy lankal hierdie beboste rante in sy visier gehad. Dit was eers net vir hom ’n donker streep in die blou dynserigheid, laag op die horison, maar dit was asof die plek hom met magiese krag getrek het. Hy het sy seuns met perde vooruit gestuur om die plek te verspied en hulle het teruggekom met die boodskap dat dit ’n paradys is, ruig met volop wild en water. Die groot rivier wat Potgieter en die ander trekkers wou oorsteek onderweg na die Limpopo het deur dié rante gevloei; in sy waters was selfs tekens van goud. Met byle en osploeë het Tjaart Kruger en sy seuns ’n weg teen ’n hoë rant opgebaan, altyd boontoe, buite bereik van die groot, blink rivier met sy nukke. ’n Man bou nie jou huis op die oewer van ’n rivier wat jy nie ken nie, veral nie een wat enige tyd in ’n rasende wit watermassa kan verander nie. Ou Tjaart Kruger het geweet wat die hoë walle ’n ent van die rivier se loop beteken – jy soek moeilikheid as jy teen dié water bou. Die Krugers het dus teen die hoë rant uitgebeur, so hoog hulle kon, want hulle het ook aan die stroopbendes van die Matabele gedink. By ’n waterbron op ’n effense gelykte onder die rant se spitskop het ou Tjaart halt geroep. Die osse is uitgespan, sy kalbaspyp opgesteek en die omgewing deur die blou rook van die gekerfde pruimtwak bekyk. Die jongetjies het hout bymekaar gemaak en die vrouens het kookvure aan die gang gekry. In ’n oostelike rigting, waar die rante ophou, het die wuiwende grasvelde tot aan die horison gelê. Jy kon die vlekke van wildtroppe sien, dit moes dus ook goeie weiveld vir die vee wees. Agter sy rug, aan die noordekant, het die groot rivier met sy baie eilande geblink in die laatmiddagson. Hy kon die donker en die koue voel aankruip oor die bosbegroeide rondekoprante. Net soos die eerste keer toe hy die blou rantjies vanaf die wakis sien naderkom het, het hy gedink: snaakse plek, hierdie rante wat soos ’n perdeskoen lê, die oop kant na die grasvelde in die ooste, so asof iemand ’n klip plat in ’n plas sagte modder ingeslinger het. Mzilikazi se eerste strooptog het die Kruger-pioniers sonder die helfte van hul vee gelaat. Die Krugers het saam met Potgieter opgeruk teen die Matabele. In
die Slag van Vaalrivier het Tjaart sy oudste seun verloor, en daarna het hy sy kinders aangesê om te begin klippe kap – vir ’n veiliger blyplek vir die mense en ’n stewige klipkraal vir die vee. Die huis het eers net uit vier kamers bestaan, met skietgate vir vensters, maar ná die Slag van Vegkop en nadat Mzilikazi tot anderkant die Limpopo verdryf is, is die huis tot sy huidige grootte verbou. Soos sy grootjie destyds sit Koot Kruger nou ook aan sy pyp en suig, sy blou oë starend in die verte, tot anderkant Vredefort waar die laatmiddagson die veld oranje kleur. Al wat omtrent verander het sedert ou Tjaart se tyd is die soort pyp in Koot se mond, die plastiekstoele op die stoep, Vredefort se blink dakke in die verte. Nee, mastag die boerdery lyk nou ook anders – dis die ene lappieskombers van mielies en sonneblom en wat ook al. Waar sal jy nou ook nog ’n wildtrop kry? Bees, ja, en vleismerino’s. Dorpers ook. Waar die trekosse voorheen geloop en beur het aan die swaar gelaaide waens met die wit tente kan Koot nou die swart streep van die R59 tussen Vredefort en Parys sien; karre en lorries soos miere. Koot draai sy kop na sy seun wat neffens hom op die klipmuurtjie sit, ’n beker koffie in ’n groot hand wat swart is van ghries en olie. Dis nou van heeldag se geswoeg met ’n halsstarrige trekker, ook die reuk van sweet en diesel wat aan sy kakieklere kleef. Die jong man se blonde hare het nog die sweetkring van die pet wat hy afgehaal en langs hom op die muurtjie gesit het; met sy stewel se punt krap hy agter die oor van die boerboel wat bene in die lug en met ’n uithangtong op die koel leiklipvloer lafenis soek. Koot onthou skielik sy eie koffie en bring die beker vinnig na sy mond. “Kwits, Hendrik,” sê hy half in die beker, “ons moet ontslae raak van daai Conroy en sy boordery.” Hy sit die beker op die klipmuur neer en vee die koffie met die agterkant van sy hand uit sy geelgevlekte weglêsnor. Hendrik sug. “Ja, Pa,” sê hy en vou sy hande om sy beker, “ek sê al lankal so. Dit was ’n malligheid van die begin af.” Koot trek ’n vuurhoutjie, maak sy pyp brand en ná ’n paar diep trekke skuif hy sy velthoed met die pypsteel weg van sy voorkop. Hy krap in sy kroeserige grys krulhare wat eens dieselfde kleur as Hendrik s’n was. “Die bewarea en die koepelboere wil hof toe oor die toestaan van prospekteerregte in die koepel. Hoe dié Conroy dit in die eerste plek in die koepel gekry het, weet nugter.”
Hendrik staan op en skiet die laaste bietjie koffiemoer in die tuin in. “Conroy is deel van ’n bemagtigingsmaatskappy, Pa.” Hy bly ’n rukkie stil. “Hy is in die gatte van ’n paar hooggeplaaste ANC-kaders soos Ben Stobela en Sam Moraka opgekruip. Hulle kry prospekteerregte net waar hulle wil. As jy van hulle ontslae wil raak, moet jy hof toe gaan, en dan kos dit jou geld. Kyk maar wat by Sishen met die Kumba-saak gebeur het, en by daardie ander wêrelderfenisgebied, by … ’m … Mapungubwe.” Koot oordink sy seun se antwoord ’n rukkie. “Al hierdie dinges het begin met daardie African Exploration and Mining Finance-spul.” Hy skud sy kop gefrustreerd. “Wat ek nie verstaan nie is as Conroy-hulle goud of steenkool of wat ook al gekry het, wat sou hulle daarmee gemaak het? Kwits, jy mag dit tog nie myn nie, nie in die koepel nie.” “Hulle sou wel ’n plan gemaak het. Hulle is ’n filiaal van die staatsbeheerde Sentrale Energiefonds. Hulle moet Eskom en PetroSA ondersteun vir volhoubare energieverskaffing. Weet Pa dat hulle sewe-en-twintig aansoeke vir ontginningsregte vir steenkool hier in die Noord-Vrystaat ingedien het? En almal aan die oewers van die Vaalrivier!” Koot sug moedeloos. “Ek verstaan dit nie so mooi nie. Wat gaan dit die mens baat om elektrisiteit te hê en dan te vrek van die dors? Hulle gaan hierdie rivier heeltemal opneuk!” Sy oë dwaal weer soekend oor die ver horisonne wat besig is om in die blou dynserigheid van die laatmiddag te verdwyn. “God het hierdie skepping van Hom vir ons gegee om oor te heers, om soort van op te pas tot Hy weer kom. Nie om op te mors en te vernietig nie.” “Die hof behoort darem te beslis hulle moet padgee, ek twyfel nie daaraan nie.” Hendrik sit sy een voet op die muurtjie en hou ’n string wit lepelbekke dop wat in formasie van die waterpanne by Vredefort verbygevlieg kom na waar die rivier agter die kop lê. “Ons moet môre daar ’n draai gaan maak,” sê Koot. Hendrik maak ’n instemmende geluid, kyk dan skielik oor sy skouer na die voordeur. “Waar is Tjaart?” vra hy. Koot staan op en gaan staan langs sy seun. “Terug Parys toe. Ateljee toe, jy weet mos.”
Hendrik ken sy pa se verwyt al goed, maar sê tog: “Ag, Pa. Los tog vir Tjaart, hy doen goed.” Koot vermy sy seun se oë maar bly korselig. “Is daar darem iemand by die kamp?” brom hy. “Kwits, ons kan die plek nie so alleen los nie. Dis wel nog nie vakansie nie, maar …” “Ou Jonas en sy span is daar,” val Hendrik hom in die rede. “Hulle bou aan by die ablusieblok in die karavaanpark, maar hulle het hulp nodig met die dak – iemand wat iets weet van bouery. Ek kan wragtag nie dit ook nie. Dis planttyd en die nuwe vakansieseisoen is op hande en daardie plek moet klaarkom, ons het klaar ’n spul besprekings.” ’n Ruk staan die twee so, elkeen met sy eie gedagtes. Hendrik voel jammer vir sy pa. Tjaart is sy oudste seun, het die familienaam en is éintlik die een wat Wonderfontein moet erf, die een wat moet kom boer en die familietradisie voortsit. Maar Tjaart is ’n kunstenaar, die seun wat nie wil boer nie. Hy wil net skilder, hier agter in die huis wat hy gebou het bo-op die ou klipruïnes van die “ou mense”, die eerste inwoners van die koepel. Hy is ook die bestuurder van die kampeerterrein agter die kop oorkant die rivier. Al wil ou Koot dit nie erken nie, doen hierdie oord met sy restaurant en kunswinkel heel goed. Koot klop die pyp teen die muurtjie uit en blaas deur die steel. “Ek … ek wens net die man wil vrou vat.” Hy werk die Boxertwak met ’n knoetserige voorvinger uit die buffelleertwaksak in die pyp se kop in. “Hy doen goed,” sê Hendrik ongemaklik. “Met sy foto-ateljee ook, veral met die natuurtonele van die koepel.” Hy druk sy pet op sy kop vas. “Wag, ek moet melkstal toe,” sê hy. Koot lig sy pyp asof hy Hendrik wil voorkeer. “Wag eers,” sê hy. “Kyk bietjie of jy kan sien wie kom daar in die stofpad aan. My ou oë is nie meer so lekker nie.” Hendrik trek sy oë op skrefies. “Nee, ek ken hom nie, dit lyk soos nog ’n rondloper. Soek seker slaapplek.” Hy hou die man met skrefiesoë dop. “Dit lyk my daar is fout met sy een been, hy loop half kruppel.” Die boerboel staan op toe die swartbebaarde vreemdeling die voorhekkie oopstoot, gee dan ’n harde waarskuwende blaf.
“Wagter! Loop lê!” Koot vat die hond se halsband vas en wink die vreemdeling nader. Die man vee sweet met ’n vuil sakdoek van sy voorkop af. Hy het ’n paar skeefgetrapte tekkies, ’n vuil denim en ’n verbleikte blou oortrektrui aan. “Middag, menere,” sê hy heserig. Sy lippe is gebars van die son en daar is witterigheid in sy mondhoeke. Koot kan die doodse moegheid in die man se oë sien. “Gee vir die man water, Hendrik,” sê hy. Hendrik stap met die stoeptrap af en haak die watersak los van die groot doringboom langs die tuinpaadjie. Hy maak die konfytblikbeker wat met ’n stuk blou baaltou aan die sak vas is vol. Sy pa glo water uit ’n watersak smaak die beste as jy dit uit ’n blikbeker drink, verkieslik een wat van ’n appelkooskonfytblik gemaak is. Die man vat die beker en drink diep en dankbaar. “Dankie,” sê hy skor en gee die leë beker terug. Hy haal ’n ou sportsak van sy skouer af, sit dit tussen sy voete neer. “Ek soek werk,” sê hy. “Ek sal enigiets doen.” Koot hou sommer dadelik van die man. Hy hou van die staal in die man se moeë blou oë. Sy baard is wel lank en sy klere is vuil en verslons; sy gesig bruin gebak deur die son, soos dié van iemand wat lank op die pad was. Maar hy hou tog van die man. Hy het nie ’n lang storie van hoekom hy gehelp moet word nie, hy vertel nie eers van die verkeerde kaarte wat die lewe hom gedeel het voordat hy vir kos en slaapplek of geld vra om by ’n sterwende ma of vrou of kind te kom nie. Nee, hy sê net: “Ek soek werk.” En as hy nou dink … Eintlik soek hulle iemand by die bouery in die kamp, maar hy soek ook nie een wat heeldag teen ’n boom gaan lê en slaap nie. Koot kyk die verslonste man stip aan. Partykeer is die werksoekery net ’n slenter om jou aandag te kry. Koot ken hulle al. Daar is deesdae al hoe meer verkeerde elemente wat in die koepel indrentel. Maar daar is nog een toets: “Ek het nie vir jou werk nie, ou vriend,” sê Koot, sonder om sy blik te verskuif. Dis nou gewoonlik hier waar hy sal kom met ’n lang storie dat hy eerder ’n paar rand sal vat, net om hom uit die moeilikheid te help totdat hy in Johannesburg kan kom waar hy baie kontakte het en wel sal regkom. Gewoonlik kry jy hulle dan die volgende oggend voor ’n bottelstoor iewers in Parys se hoofstraat op die
sypaadjie met ’n leë bottel vir ’n kopkussing. Die man met die baard tel die sak op, swaai dit oor sy skouer. “Oukei, thanks vir die water,” sê hy. “Miskien by die volgende plek.” Koot vryf oor sy ken, sit half onthuts terug in sy stoel. “Kwits, ou vriend, dis al laatmiddag,” sê hy en kug. “Eet eers dan slaap jy vannag hier, daar’s ’n bed opgemaak in die rondawel. Môre is nog ’n dag.” Die man met die blou trui met die verbleikte wapen op die bors lek ’n slag oor sy droë, gebarste lippe en loer na die son wat vinnig sak. “Nee, ek sal eerder op ’n ander plek gaan vra,” sê hy, draai om, gee ’n paar treë en steek weer vas. “Hoe ver is die volgende plek?” vra hy. “Ken jy van bouwerk?” vra Hendrik dan van die kant af. Hy het sy pa met ’n glimlag staan en dophou. Hy ken al die ouman se keuringsmetodes en hy weet dat daar nie ’n manier is dat sy pa dié man, of enige ander mens, sonder kos sal laat gaan nie. Die man krap met ’n vuil middelvinger in sy ruie swart baard, kyk die forsgeboude jong boer in kakie ondersoekend aan. Hy knik dan stadig sy kop. “So ’n bietjie,” sê hy. “Pa.” Hendrik kyk na Koot wat nou regop gekom het. “Ons het ’n man wat kan bou in die kamp nodig, al hou hy net toesig. ’n Faktotum ook wat kan uithelp die vakansiedae as Tjaart nie daar is nie.” Koot stap die kliptrap af. “Hoe voer neef die naam?” “Charlie … ’m … sommer net Charlie is orraait.” Die ou man steek sy hand uit; ’n man se van is sy eie saak. “Ek’s Koot Kruger, en dit is my seun Hendrik. Dit lyk my ons kan jou tog gebruik. Vir ’n proeftydperk, natuurlik.” Hy draai na sy seun. “Hendrik, vat die man oorkant na die kamp toe en wys hom sy kamer. Sommer ook daardie boks met die klomp klere wat die vakansiegangers alewig hier vergeet, laat hy solank kyk of daar iets is wat pas. Bring hom dan terug dat ons verder kan praat oor salaris en so aan.” Hendrik krap onseker onder sy pet. “Pa, dis mos nie net vir ’n heen en weer nie en die koeie is seker al by die melkstal …”
“Toemaar, ek sal kyk. Kwits, man, dink jy ek kan nie meer ’n koei melk nie? Toe, laat julle ry, die son begin water trek.”
18
Got a girl named Sue, she knows just what to do … bulder Little Richard vanuit ’n CD-speler langs die katel by die sinkkaia se oop deur uit die nag in. Twee tree weg van die katel slaan ’n groot man met die plathand op ’n tafelblad. “Sit sagter daardie stront! I can’t hear myself think, for fuck sakes!” Hy probeer hom bokant Little Richard se sappige refrein hoorbaar maak, maar as hy geen reaksie van die man op die bed kry nie, staan hy op en druk self die CD-speler se knop af. Toe die musiek stil word, roer die maer man op die bed. “Hel, Tiger,” mompel hy. “Dis al wat ’n mens nog in hierdie verdomde wildernis kan doen, musiek luister.” “Kry ’n ander CD; ek’s moeg vir daardie lawaai,” grom die grote en skommel weer sy pak kaarte. Dan verstil sy hande en hy draai sy kop. Dis nou doodstil – die kompressor by die boortoring is ook stil. Hy haal sy skouers op, miskien gooi hulle net diesel in. Terwyl Tiger die kaarte voor hom uitpak, klink die weemoedige geroep van ’n ooruil hoër op teen die rant op. Onbewustelik versomber Tiger se gesig. Hy wens dit kan so stil bly, sonder die kompressor se geraas of die gestamp en geratel van die masjien. Sonder ou Ben se ewige musiek. Net met die voëls en die water en die wind. Dit moes so gewees het lank gelede, voordat hier mense was. Voordat húlle hier was … Die kompressor se geraas begin weer en die gloed van die skerp ligte by die boortoring val tot in die kaia se deuropening. Tiger staan op en gaan staan in die deur, leun met sy skouer teen die ruwe kosyn. Rondom die boor is ’n groot gebied met stootskrapers van alle plantegroei gestroop om plek te maak vir staalpype, dromme, pale en ander gemors wat nodig is vir die boor wat al dieper in die aarde indraai. Daar is ook ’n landingsplek vir ’n helikopter. Tiger sug en draai terug. In die sinkhut is daar drie ysterbeddens met klapperhaarmatrasse, ’n lendelam tafel met ’n paar kampstoele en in die een
hoek ’n yskas. Die plek stink na sigaretrook, vuil voete en die paraffienrook van die yskas. Hy gluur na Ben wat met net ’n kortbroek aan uitgestrek op die bed lê, sy kop hoog gelig op ’n kussing wat hy dubbeld gevou het teen die bed se staalkopstuk. In die een hand hou Ben ’n bierblik, in die ander ’n sigaret waarvan die rook lui opkrul na die venstertjie bokant sy kop. “Fok, dis warm, en bedompig,” mompel Ben en neem ’n sluk van die bier. Die sweet glinster uit op sy kaalgeskeerde kop en harige bolyf. “Ons moet vra vir ’n fokken aircon.” “Like hel.” Tiger gaan sit weer by die tafel en tel die vetterige pak kaarte op om sy pot solitaire te hervat. Die gloeilamp wat onder ’n vuilgroen skerm aan ’n stuk vliegbemorste elektriese koord van die plafon hang, blink silwer op sy skouerlengte grys hare. Met die ander hand tel hy ’n brandende sigaret uit een van die gebruikte KFC-bokse op die tafel en betrag die kaarte met een oog toegeknyp teen die rook. “The bossman will be here tomorrow. Ask him, but he’s not going to listen to your shit.” Tiger praat met ’n swaar Ierse aksent. Hy draai ’n kaart om, sien dit is die aas van diamante en sit dit eenkant neer. Hy druk die stompie in die boks dood. Ben gee ’n minagtende snork. “Hy’s te bleddie suinig; stel net in die ore deposits belang, en die goed wat die helikopter bring.” Hy staan op, gaan staan in die deur en skiet die stompie na buite waar dit met ’n sproei van vonke die grond tref. “Hei!” roep Tiger. “Jy gaan die plek afbrand!” “Ag, hel,” mompel Ben. “Hier’s niks om te brand nie. Die boordery het als opgefok.” Hy leun met sy elmboog teen die kosyn, bekyk die boortoring en kantel die bierblik oor sy mond vir die laaste paar druppels. “Hier kom nog groot moeilikheid, watch net,” sê hy nadat hy gesluk, die bierblik platgedruk en agter die stompie aangesmyt het. “Hmm,” brom Tiger sonder veel belangstelling, vee sy grys snor en bokbaard plat, sy oë op die kaarte. Ben gaan kniel by sy bed, sleep ’n staaltrommel daaronder uit en haal ’n sakkie met wit poeier en ’n groterige spieëlskerf en ’n glasstrooitjie uit die trommel.
“Wanneer kom die chopper weer? Ek’s amper uit.” “That shit is going to kill you.” “Dis all right, ek kan dit handle.” Hy sit die stuk spieël op die bed neer en gooi ’n hopie van die poeier daarop. “Wanneer kom die chopper?” vra hy weer. “Hoe de hel moet ék weet? Seker as Conroy hulle bel om te kom. Maar daai is nie vir jou nie, it’s for the Gauteng market. Check hoe lyk jou neus al.” Ben kom regop, vat ’n speelkaart van die tafel, kniel weer by die bed en krap die wit poeier in twee dun strepe op die spieël. “Ja, ja, oukei,” sê hy. “Ek kry darem ook altyd ’n sakkie by die pilot. Soek jy ook ’n snort?” Tiger Denton draai ’n kaart om, skud sy kop. “Ben, I went to San Quentin because of coke,” sê hy. “I’m not going to fuck myself again just for a bit of euphoria.” “Suit yourself.” Ben druk om die beurt ’n neusgat toe en snuif die wit poeier met die strooitjie in sy neusgate op. ’n Ruk lank sit hy met toe oë, twee vingers op die brug van sy neus. Dan vee hy die oorblywende poeier met ’n vinger bymekaar en smeer dit aan sy tandvleis. Hy kom wankelend regop, kry nog ’n bier uit die yskas, knak dit oop en gaan lê weer met toe oë op die bed. Hy vroetel senuweeagtig aan ’n hangertjie om sy nek – ’n haaitand aan ’n riem. “Ek hoor hulle gaan hom stop om hier te boor,” sê hy. “Shit, Ben, shut up. Ek try my bes om hier te concentrate. Dis in any case nie jou se besigheid nie.” Tiger draai ’n kaart om, sit die twee van diamante op die aas neer. ’n Ruk lank kan net die geraas van die boor gehoor word; in die vertrek die getik-tik van motte teen die vuil ligskerm. ’n Groot groen hottentotsgot kom by die oop deur ingevlieg en gaan sit ná ’n paar draaie op die skerm, sy kloue gereed vir die motte. “Dis jammer,” sê Ben en sug, steek nog ’n sigaret aan. “Hmm.” “Ek laaik nogal die plek. Dis nie ’n bad spot nie, maar ons neuk dit heeltemal
op.” “Mmm.” Tiger klap vererg ’n mot uit sy lang hare, gooi die kaarte vies neer en stap deur toe. “Ons moes vir die chopper ’n plek maak om te land en vir die ander equipment ook. Daar’s oorgenoeg van hierdie bosse, bome en klippe vir almal.” Hy staar ’n ruk na die ligte by die boortoring, ruk dan sy kop op asof iets hom bygeval het. “Waar’s Koos?” vra hy. “By die boor. Hoekom?” “He’s not there.” “Ek het hom nou net daar gesien.” Ben gaap en verskuif die kussing onder sy kop. “Hy’s nie nou daar nie. Gaan kyk.” Ben se oë is toe. “Hy’t ’n naglyn vir die babers gestel anderkant die rant, miskien is hy daar,” mompel hy en draai om sodat hy met sy gesig na die sinkmuur lê. Tiger vlieg om en gee ’n tree na die bed toe, dreigend, met sy arms bak. “Hey, you big piece of chickenshit …” ’n Rooi gloed versprei van sy nek oor sy gesig. “Ek is die bossman hier rond, lig jou gat van daai bed af en doen wat ek sê.” Ben kantel oor op sy ander sy, kyk Tiger ’n oomblik verbaas aan. Dan staan hy brommend op, neem ’n flits van die tafel af en stap deur toe. “Dis nou ’n mors van fokken tyd,” mompel hy. “Hy’t seker net gaan skyt of so iets.” “Ja-ja!” Tiger klap na ’n muskiet op sy arm en trek sy frokkie oor sy kop. Hy is twee-en-vyftig, maar die spiere op sy arms en rug is dié van ’n veel jonger man. Hy het hard geword op Meksikaanse oliebore; die talle getatoeëerde drieblaarklawers op sy bolyf kom van die jare dat hy lid was van die gevreesde Aryan Brotherhood in die San Quentin-gevangenis in Amerika. Tiger haal ’n rekkie uit sy broeksak en bind sy hare in ’n poniestert, gaan lê op sy bed en maak sy oë toe. As die baas ’n verdomde gat hier waar daar fokkol is geboor wil hê, is dit niemand se besigheid nie. Hy sal sorg dat dit gedoen word, al moet hy ook die twee losers wat saam met hom werk aan die toring vasmaak. Dis eintlik so amateuragtig, om die boordery te gebruik as rookskerm vir die wit poeier en kristalle. Maar toegegee, vir die hoeveelhede wat van die Oos-Vrystaat af inkom, is padvervoer te gevaarlik, en choppers is nie ’n snaaksigheid by sulke boorsites
nie, veral nie in die bos nie. Die Suid-Afrikaanse pote is ook nou nie heeltemal stupid nie en daar’s deesdae baie padblokkades, op die agterpaaie ook. Tiger haal die groot .45 Glock uit sy belt, knip die magasyn uit en maak seker dat dit vol is. Hy skuif die swart pistool onder sy kussing in en draai op sy sy.
19
Hoe lank hy geslaap het, weet Tiger nie, maar dit is stil en donker in die sinkhut. Die kompressor is ook stil. Hy lê ’n oomblik en luister na die naggeluide, die rivier agter die rant, hier en daar ’n nagvoël. “Fucking hell,” mompel hy en draai op sy rug. Doodstil. Wat gaan nou aan, dink hy, is die diesel weer op? Hy swaai sy bene van die bed af en vryf deur sy hare. In die flou maanlig wat by die oop deur inskyn, probeer hy op sy polshorlosie kyk hoe laat dit is. Hy skud dan ’n sigaret uit ’n verfrommelde Texan-pakkie, reik na ’n aansteker op die rand van die tafel en steek die sigaret aan. Ná die tweede trek kom dit van iewers in die duister, ’n lang en rou kreet. Tiger spring regop, vloek as hy sy voet teen die tafel stamp. Hy staan stil om te luister, druk dan die sigaret in die KFC-boks dood en gryp die pistool onder die kussing uit. Hy voel in die donker rond na die flits, onthou dat Ben dit gevat het en hardloop by die deur uit. “Koos, Ben … where the hell are you?” Hy hardloop in die rigting van die boortoring, struikel in die donker oor ’n los boomwortel, staan steunend op en hardloop verder. In die skadu van die kompressor sak Tiger op ’n knie af en trek die glystuk van die Glock terug. Die baas het gesê hier is nog luiperds in die rante. Hy soek in die donker bosse om die boortoring, maar die maanlig help nie juis nie – daar is te veel skaduwees onder die bome. Hy klop teen die kompressor se dieseltenk. Daar is nog baie in, iemand moes die ding afgesit het. “Koos, Ben!” roep Tiger weer. Wat de bliksem? Luiperds skakel nie masjinerie af nie! Met die pistool voor hom uitgedruk beweeg hy om die toring tussen die dromme en pype deur wat daar rondlê. Hy struikel oor ’n kruiwa, kom swetsend weer regop, vee die swart modder wat aan sy hande vaskleef aan sy broek af. Die gil het van die rivier se kant af gekom, besef hy skielik, hy moet dáár gaan kyk … Dan onthou hy, Koos se naglyn!
Tiger hardloop in die dowwe voetpaadjie af na die rivier. By ’n gaping in die bosse, waar die rivierwal skuins afloop tot in die water, kry hy die ysterpen waaraan Koos die naglyn vasgemaak het. Hy trek die nylontou uit die water – die platgetrapte viskop is nog aan die hoek en hy smyt die lyn vies terug. In die gras langs die water sien hy iets in die maanlig blink – die flits! Hy raap dit op en druk die skakelaar. Die batterye is amper pap, maar die flou ligstraal bring tog ’n mate van gemoedsrus, hy kan ten minste verder as vyf meter sien. Die dowwe ligkol beweeg rukkerig oor die water en die steil rivierwal, kom tot stilstand by iets wat in die vlak water dryf. Hy gee twee vinnige treë nader. Dis Koos se kêps, en langsaan hang die riempie met die haaitand wat Ben altyd om sy nek dra aan ’n stuk biesiepol. In die modder sien hy nou diep spore en sleepmerke teen die wal af na die water toe, die gras platgetrap. Tiger haal sy selfoon uit sy sak en terwyl hy met die flits in die donker om hom rondsoek, probeer hy ’n nommer skakel. Dan onthou hy daar is nie ’n sein langs die rivier nie. “Demmit!” Hy sal die rant moet uitklim om te kan bel. Net toe Tiger omdraai, hoor hy ’n geweldige geplas in die rivier. Hy swaai om en sien die wit bruising – dit moet ’n groot ding wees wat daar gespring het. Hy ril. Die mense hier langs die rivier praat van ’n waterlikkewaan of ’n ding wat mense vreet. Hy sien die golwe uitkring en dan is dit asof ’n onsigbare boot deur die donkerte pyl en kielwater na weerskante gooi. Wat ook al daar in die rivier is, is groot – groter as die baber wat Koos laas week gevang het. Tiger trek die Glock uit sy belt, mik na die onstuimigheid in die rivier, maar dan word alles weer stil, so plotseling as wat dit verskyn het, verdwyn dit weer. Ook die krieke en die paddas is nou stil, asof hulle asem ophou. Vir wat? Wat op aarde was dit? Tiger ruk sy kop na regs as die riete ’n paar meter van hom af ritsel en ’n paar vinke met ’n luide geklapper die nag in vlieg. Hy swaai die dowwe flitslig, sukkel om sy staan te kry op die gladde wal. Dit lyk asof die riete eenkant toe gedruk word; hy sien die snotterbelle roer en draai, dan weggestoot word deur iets. Daar is beslis iets daar. Die Glock is sweterig in sy hand. “Ben!” roep hy. “Koos!” Tiger se stem klap op die water, byna soos die naglyn met die viskop aan wat hy vroeër teruggegooi het. Hy voel ’n soort senuagtige ergernis in hom opstoot. Die twee het natuurlik in die water geneuk, Ben vol bier en kokaïen en Koos kom gewoonlik rivier toe om dagga te rook. Daar is die beweging weer. “Ben! Koos!
Stop julle stront en kom uit die water uit.” Daar kom geen antwoord nie, maar dit is nou asof Tiger twee groot oë tussen die waterhiasinte sien blink. Fok! Net ’n oomblik lank sien hy dit, dan verdwyn dit en die opening in die plaat hiasinte is weer toe. Dit is beslis nie Ben of Koos nie, die twee is nie eens lief om te bad nie, wat nog te sê in die middel van die nag in die bleddie rivier te baljaar! Tiger swaai die lig van die flits oor die water, die hiasinte en die riete, maar alles is nou stil. Wat de hel was dit? Fok, hy moet hier wegkom! Hy klouter glyend teen die modderige wal uit. Voordat hy bo is, val ’n skaduwee oor hom en byna tegelykertyd klap iets teen sy agterkop en dit is asof hy teen ’n spieël vasgeloop het wat in derduisende skerwe versplinter. Hy val op sy sy, mik na waar hy die skadu gesien het en trek instinktief die pistool se sneller twee keer. Hy voel hoe hy teen die wal afgly, probeer sy gesig uit die modder lig, maar kry dit nie reg nie.
20
Die dubbelverdieping staan op ’n groot erf met netjies versorgde grasperke wat met terrasse afloop tot teen die diep, stilvloeiende rivier. By ’n vasmeerplek teen die rivieroewer verlig ’n geel lig op ’n hoë mas ’n motorboot met ’n buiteboordenjin wat die water wieg. ’n Roeiboot en kano is op die graswal uitgetrek. Oorkant die rivier is die ligte van ’n gholfbaan op ’n groot eiland in die rivier sigbaar. Op die terras vlak voor die huis is ’n swembad met ’n houtdek, tafeltjies, sambrele en ’n tiental dekstoele. Hý lê in een van die dekstoele en betrag die pragtige toneeltjie met skrefiesoë van agter sy lang glas. Sy selfoon lui en hy kantel effens skuins op die stoel, trek vingers deur sy dik, golwende grys hare voordat hy die selfoon oopskuif. “Yes, Tiger?” sê hy met ’n lui steun. “Baas, daar’s groot stront hier! Ben en Koos is net missing.” “Tiger, ek’s besig met ’n party hier. Het julle weer aan die suip geraak?” Conroy gooi die inhoud van die lang glas in sy keel af en spoeg die ysblokkies terug. “Wat bedoel jy met weg?” “Weg! Missing! Gone with the bloody wind …” Conroy kan die ergernis in Tiger Denton se stem hoor. Hy knik vir ’n blonde meisie wat pas deur ’n groot skuifdeur verskyn het en nog ’n tequila met ys en suurlemoensap in ’n lang glas langs hom op die tafeltjie neersit. Sy oë gly oor haar slanke lyf in die klein rooi bikini. “Mense raak nie net weg nie,” sê hy met ’n stemtoon iewers tussen ongeërg en geïrriteerd en druk die selfoon stywer teen sy oor vas. “Het jy die pote gebel?” “Ja, maar hulle stel nie belang nie.” Conroy trek die meisie langs hom op die stoel neer en sit sy arm om haar kaal lyf, sy vingers onder haar arm op die rondings van haar bors. Hy knik en lig sy glas na van sy gaste wat vir hom vanuit die swembad waai. “Luister, Tiger, ek betaal jou om sulke situasies te hanteer. Nou hanteer dit, verdomp.”
“Die klomp pote by die Buffelshoekstasie scheme dis nog te gou om te worry. And I’m telling you, Boss, dit lyk asof iets … iemand hulle die water ingesleep het!” Conroy beduie vir die blondine na ’n pakkie sigarette. Sy haal ’n Camel uit die pakkie, steek dit aan en sit dit in sy mond. “Nou vir wat neuk julle dié tyd van die nag by die water? Die rivier is nie ’n man se maat nie.” Conroy blaas rook langsaam by een mondhoek uit. Hoe minder daardie boortoring in die kalklig is hoe beter. “Man, demmit,” sê hy dan, “ek stem saam met die pote, dis te gou om die panic button te strike.” Hy los die meisie teësinnig om die sigaret uit sy mond te haal. “Wag totdat dit lig word, dan bel jy hulle weer as daardie twee flentergatte nog nie opgedaag het nie. En bly uit die verdomde rivier uit!” Hy skuif die selfoon toe en gooi dit op die tafeltjie langs die stoel neer. Terwyl hy sy hand weer onder die meisie se arm en die bikini se bostuk invroetel, dwaal Conroy se oë na waar van die gaste die motorboot van die houtpier af wegstoot. Hy kyk stil en broeierig toe hoe hulle die motor aan die gang kry en stroomop verdwyn. Die boot se skerp soeklig speel soekend oor die donker oewer. Conroy glimlag en skud sy kop, dis nie die eerste keer dat hy die afgelope tyd die bangmaakstories hoor van mense wat in die koepel verdwyn nie. Hy haal die meisie se hand van sy bobeen af en wys dat sy moet verdwyn. Hel, dis die Vaalrivier hierdie, met die baie eilandjies en strome – dis ’n bedrieglike stuk water. Onder die watervlak is daar ook orals dooie bome, stompe en stukke doringdraad wat deur die jare meegesleur is as die rivier sy walle oorstroom. As jy te diep duik, is die kanse goed dat jy aan iets sal vashaak en nie weer gaan opkom nie. Mense het nog altyd hier verdrink en verdwyn, meesal as hulle gesuip was of kanse gevat het met die water. Dit het niks met watermonsters en sulke stront te doen nie. Die plek het ’n reputasie. Gelukkig ook, dink Conroy, staan op en skiet sy stompie die tuin in. “Meneer Conroy!” Dis weer die blondine. “Meneer Stobela is hier om u te sien.” “Nou maar bring hom deur,” sê Conroy ongeduldig. “Bring sommer die Chivas en die ys ook.” Hy stap die oorgewig sakeman tegemoet. Aan Ben Stobela se vinger hang die sleutel van sy groot swart RX6 BMW, of is dit dié keer die plat swart Mercedes wat hy spesiaal ingevoer het. Hy is ’n bruikbare sakevennoot dié Stobela. Hy is ’n advokaat met al die regte kontakte, van die presidensie tot by
die sekretaresses wat die lêers ronddra in die minister van mynwese se kantoor. Conroy steek sy hand uit. “Welcome, Ben. Kom sit, die Chivas is op pad.” Ben Stobela sak dankbaar in ’n protesterende houtstoel neer, vee die sweet met ’n wit sakdoek van sy breë voorkop af. “Hell, it’s hot!” “Wat bring jou in hierdie rigting, Ben?” “Trouble, my friend, trouble! Sam Moraka was assassinated last night.” “Oh shit!” Conroy vat ’n glas Chivas met ys by die blondekop en gee dit vir Stobela aan. “Precisely, oh shit!” Ben vat ’n groot sluk uit die glas. “I also think the court is going to uphold the farmers’ appeal against our prospecting rights in the dome. Without Sam’s help we haven’t got a hope in hell to return there again. We will have to pull out, as soon as possible.” “Wie is die bliksems wat daarvoor verantwoordelik is?” Stobela haal sy skouers op. “Who knows, my friend, who knows. There is a lot of rivalry in this prospecting business. Especially in the coal-for-Eskom racket.” Hy teug nou versigtiger aan die drankie. “Maar, my vriend, daar is nog baie ander se visse by die see, of moet ek eerder sê steenkool langs die Vaalrivier. Moet jy nie worry nie. Wat my laat baie geworried wees, is dat daai boorsite eintlik net ’n scam was vir die chopper. We will have to think about another way to get the white stuff in.” “Dit is anderdag se dinge daai, Ben. Die kontrak met oubaas Kruger sê dat as ons padgee, moet ons die plek rehabiliteer. Dit sal ons minstens nog twee maande kans gee om ’n ander plan te maak.”
21
“Pa-a!” Baby Freislich se stem klink soos dié van ’n siel roepende uit die diepste dieptes van die hel. Sy lê op haar rug op die Ford se agtersitplek, haar kakebene ritmies kouend aan ’n stuk kougom, soos ’n goudvis wat groen slyk van ’n vuil visbak se kant afvreet. Elke nou en dan blaas sy ’n borrel wat sy hard laat bars; die stukkies kougom wat aan haar lippe bly kleef, lek sy met haar tong af. Haar duime flits oor ’n selfoon se knoppies. Kris Freislich sit in sy frokkie met sy elmboog deur die oop venster, sy boarm met die blou tatoeëermerk van ’n hart met ’n pyl daardeur al rooi gebrand deur die son. Die woord “Stien” is op die pyl se steel geskryf. Kris trommel met sy vingers op die rooi Ford Big Six se dak, op die maat van Gé Korsten se liedjie van die meisie op die hawe wie se hartjie seer is omdat haar matroos iewers op see is. “Pa-a!” Weer die noodkreet van die agtersitplek af. Kris loer in die truspieël. “Wassit nou weer, Baby?” “Die venster, Pa! My hare waai deurmekaar!” Hy vat eers ’n sluk uit die bottel bier wat hy onder sy maag tussen sy bene vasknyp voordat hy antwoord. “Daardie kop van jou kan nie meer deurmekaar raak as wat dit is nie.” Die bierbottel het hy eers oopgemaak toe hy van die grootpad afgedraai het; ’n man moet mos veilig bestuur. “Kris, draai daardie venster toe, demmit!” Stien Freislich vuur nou haar pyle van die asiersitplek af. “Netnou vat die kind koue, dit is vakansie en dan sit ek weer met haar gehoes. Haar bors is hoeka nie lekker nie.” Kris loer weer agtertoe in die spieël. Baby se heelwat te klein Bad Girl-T-hemp span bokant ’n stuk kaal maag styf oor haar parmantige borsies. “Dit lyk nie vir my daar’s fout met haar bors nie,” brom hy. “Wat sê jy?”
“Ek sê met daai toppie wat sy amper aanhet, is dit ’n wonder sy’t nie lankal koue gevat nie.” Hy draai die venster teësinnig toe terwyl hy uit die hoek van sy oog na sy vrou loer wat die sitplek langs hom behoorlik vol sit. Waar’s die dae toe sy skaars ’n Harley se agtersitplek kon vol sit? “Stien, steek daar vir ons ’n Lexington op,” sê hy. “Pa-a!” “Wat de hel is dit nou weer met jou? Die venster is mos toe!” “Sekondêre rook, Pa! Dink aan my longe. Pa en Ma rook die kar blou as alles so toe is.” “Luister, my girl, besluit nou waarvoor jy die liefste is, jou hare of jou longe. Dis my kar hierdie, as ek wil rook of poep in die ding kan ek, want ék het geskyt om hom te betaal.” Kris loer weer in die truspieël na sy dogter. “Jy kan altyd agter in die karavaan gaan ry.” “Ek dog dis te gevaarlik.” Kris vat ’n sluk uit die bierbottel. “Ja dit is!’ sê hy moedswillig. “So, you lies backs en enjoy my driving en die scenery.” Hy draai sy kop na Stien om haar reaksie op sy Engels te sien. Van haar flits sy oë na die truspieël waar die karavaan se beeld rondspring. Voor hom begin die bosrante, wat hy vroeër van anderkant Vredefort net as ’n blou dynserigheid gesien het, nou sigbaar word. Nog net ’n kort entjie dan is hy op die Reitzburgpad en tussen die rante; dan net nog ’n entjie, oor Schoemansdrift, en dan is hulle by die Lekker Rus-kamp. As hy gelukkig is, eet hulle vanaand geelvis; hy’t hoeka ’n blik met klein krappies agter in die Ford se boot gesit, uitgehaal uit die watersloot by die bootklub. “Kris, ons moet ’n slag weer afgaan Toti toe vir vakansie, ons was lanklaas daar,” sê Stien, haar linkerhand geklem aan die handvatsel bokant die deur, in haar regter ’n rokende Lexington. “Ja-a, Pa!” Baby kyk vlugtig van haar selfoon op. “Al my pelle gaan altyd see toe en het ’n bôl van ’n tyd, kom bruingebrand terug. Hulle sê die lifeguards is sulke awesome hunks wat …” “Dis net ’n geldmakery deur die Indiërs daar by die see en daar is nie meer rotsvis nie, hulle het als uitgevang,” grom Kris. “En as jy ’n bleddie bôl wil hê,
sal ek vir jou ’n plestikbôl koop. In elk geval, daar is ’n lifeguard by Lekker Rus se swembad ook, en jy kan daar ook lê en jou lyf verbrand.” Baby rol haar oë weer. Haar pa sal tog nie verstaan nie, die lewensredder by Lekker Rus het ’n boepens en hare wat by sy neus uitgroei en almal noem hom oom Jurie. Sy sug. Hoe romanties! “Is daar nie ’n ander tape nie, Pa?” vra sy as Gé “Liefling” begin sing. “Ja, natuurlik. Wat wil jy hoor? Charles Jacoby, Bles Bridges of die Briels? O ja, amper vergeet ek, hier is ’n nuwe een van die Bosveld Boereorkes. Lekker vir die aande as ons braai.” Weer die rollende oë. “Los maar.” Baby weet sy gaan die volgende tien dae elke aand by die braaivleisvuur genoeg hoor hoe Bles rose uitdeel – dis haar ma se favourite, maak haar glo romanties. Sedert sy haar verstand het, kom hulle elke jaar na Lekker Rus, ’n vakansieoord langs die Vaalrivier in die Vredefortkoepel. Vroeër het Boeries saamgekom en toe was dit nie te sleg nie, maar nou is hy ’n speknek-speurder en het sy eie dinge. Wat sy nodig het, is haar eie iPod, dan kan sy na haar eie musiek luister. Baby blaas nog ’n borrel kougom, laat dit bars en gee haar gedagtes vrye teuels. Sy maak binnekort klaar met skool en dan is sy haar eie baas. Volgende Desembervakansie saam met haar pelle Margate toe, dan Engeland toe vir modelwerk, miskien Frankryk en Duitsland se loopplanke ook. Haar lyf is reg daarvoor, sy weet. Al die seuns sê so, Cecil ook … Sy sug weer diep, druk die selfoon in haar kortbroek se sak. Maar sy sal eers verby die twee oumense voor in die Ford moet kom. Haar ma wil hê sy moet hairdressing gaan swot by die Tek in Welkom en dan by antie Poppie se salon in Virginia gaan werk. Haar pa wil hê sy moet by die huis sit en ’n oujongnooi word. Sy kan nie help om te glimlag nie, asof dit ooit moontlik kan wees …
22
“Is dit die plek?” skreeu ’n polisieman met ’n hond wat aan ’n leiband rem. Die hond beur om sy snoet by die pen met Koos se naglyn te kry, dan strek hy sy nek na Ben se haaitandhangertjie en Koos se pet. Tiger lig sy duim om die plek te bevestig. Hy het alles net so vir die pote gelos, want hy verstaan niks hiervan nie. Uit pure nuuskierigheid het hy vanoggend daardie lyn tussen die riete uitgetrek, en aan die hoek was ’n groot baber, of liewer net die kop van een, die res is agter die kiewe afgevreet. Dit was nie ’n klein vissie daai nie en hy wil nie weet wat daardie vreetwerk gedoen het nie, hopelik net ’n groot otter. Dis wel moontlik dat dit ’n otter was, hulle is volop in die diep kuile van hierdie verdomde rivier wat alewig lyk of hy nie sy koers kan kry tussen die koppe van die koepel deur nie. Maar wat was daardie groot blink oë wat hy gesien het? Dit was nie sy verbeelding nie, daarvan is hy seker. Maar hy het geen verklaring daarvoor nie. Net so min kan hy die helse groot knop aan sy agterkop verklaar, maar dit is daar en dit is bleddie seer as hy daaraan vat! Daardie gedaante was beslis nie net ’n skadu nie, skaduwees doen nie sulke dinge nie. Hy weet nie wat van hom sou geword het as hy nie daardie twee skote afgevuur het nie … Tiger gaan sit op ’n klip waar die pad vanaf die boortoring teen die rivier doodloop. “Demmit!” Hy klap vies na ’n steekvlieg wat op sy nek brand. “Hoe gouer ek uit hierdie verdomde bos uitkom hoe beter,” brom hy. Met sy oë geskreef teen die skerp oggendlig hou hy die twee polisiemanne dop wat die rivieroewer met hul wolfhond fynkam. Hy skuif die swaar Glock wat nou in ’n skouerholster onder sy arm hang gemakliker en vou sy arms oor sy frokkie. Sy hemp is oopgeknoop en hang los oor sy denimbroek; die bruin Cat-stewels is besmeer met die swart riviermodder. Hy het vanoggend gewag totdat die son hoog genoeg was voordat hy die pote by die Buffelshoek-polisiekantoor weer gebel het; daarna is hy terug na die visvangplek. Met die haelgeweer waarmee Ben watervoëls geskiet het, het hy om die rant gesluip, soort van die visvangplek bekruip, totdat hy besef het hoe simpel hy moet lyk. Maar daar was niks met groot blink oë en ’n lang nek nie, en sy pistool het nog tussen die biesies op die oewer gelê.
Tiger laat sy oë oor die rivier dwaal. Dit is ’n helder, rustige oggend en die wewers kwetter byna oorverdowend in die riete. Die oggendson blink op die rivier, wat hier diep en breed tussen die rante deur vloei – die plaaslike mense praat van dié gedeelte as ’n seekoeigat. Stukke waterhiasint wat losgespoel het van die groen plaat teen die wal, dryf stroomaf om weer ondertoe, na Schoemansdrift se kant toe, ’n versmorende kombers op die poele te vorm. Die rivier is vanoggend vol lewe: Visse maak kringe op die oppervlak soos hulle jag maak op die goggas wat volop is ná laas nag se reën. ’n Likkewaan se kop en lang nek, wat net ’n oomblik tussen die riete verskyn, laat Tiger reik na die loop van die twaalfboor wat langs hom teen die klip staan. Die rooi- en geelvinke en die ander wewers maak luidkeels beswaar teen die reptiel se teenwoordigheid. Ná sy ondervinding die vorige aand by die visvangplek het Tiger nie veel geslaap nie en nou wil sy oë toeval. Die eentonige gekrrrrr van ’n kuifkophoutkapper by die Lekker Rus-oord aan die oorkant en ’n piet-my-vrou wat sy drie note tot vervelens toe in die vars oggendlug ingooi, is slaapmusiek vir sy moeë kop. Sy gedagtes dwaal dromerig terug na gisteraand se gebeure. Alles word effens onwerklik, dit is net die knop aan sy kop wat ’n aanduiding is dat alles werklik gebeur het. Die reën het die spore teen die gladde wal feitlik uitgevee. Ben se haaitand en Koos se pet was wel nog daar, ook die sleepmerke wat hy gisteraand gesien het, maar wat beteken dit alles? Hy is nou nie ’n verdomde spoorsnyer nie, maar daardie sleepmerke loop almal teen die wal af na die water toe. As hy moes sê, het iets hulle in die water ingesleep en opgevreet, of wat goed met groot blink oë en lang nekke ook al met hulle slagoffers doen. En hy was amper ook in daardie diep gat van die rivier! Tiger swets, spoeg windaf, waai die muggies om sy kop weg en vryf versigtig aan die swelling aan sy agterkop. Hy skuif sy pet sodat dit die knop bedek, niemand hoef hiervan te weet nie. Ook nie van dit wat hy gesien het of vermoed hy gesien het nie, hulle sal vir hom lag. Maar van een ding is hy seker: Hy bly nie langer hier nie! As Conroy nog geboor wil hê, moet hy dit maar self doen, of vir hom wat Tiger is ander blyplek kry. In die dag is dit nog orraait, maar die gedagte aan nog so ’n nag … Van agter die rant kom die gebrul van ’n enjin. Die pad is om die rant oopgeskraap en verbind die pad by die plaasopstal met die boor en die rivierwal. Die bome en bosse wat uit die pad gestoot is, is net gelos, en die pad is erg verspoel deur reënwater wat van die rant af kom. Hulle moes lankal hier klaar en
weg gewees het, voordat die pad so kon verweer het. Dis die graniet, dis baie harder as wat hulle gedink het en die boor sukkel. Tiger is nie ’n prospekteerder nie, maar hy ken van boor en hier is nie goud of wat hulle ook al soek nie. Als net ’n bleddie rookskerm vir Conroy se besigheid met die helikopter. Toe die voertuig se groen neus tussen die bome deur sigbaar word, steek Tiger ’n sigaret op en stap nader. Hy glimlag toe Conroy Bosman onder ’n groot witstinkhout stilhou en in ’n plas swart modderwater uitklim. Conroy het ’n ligblou langbroek en ’n wit hemp aan met byende blou seilskoene. Sy golwende kuif blink in die son, en hy maak eers in die kantspieël seker dat elke haar op sy plek is voordat hy die deur toeklap. “Tiger, wat de hel gaan hier aan?” roep hy vies terwyl hy sukkel om die taai modder van sy skoene aan die graspolle af te vee. “Wat karring die pote nog steeds hier rond? Jy weet ek soek nie ruptions nie …” “Ben en Koos is missing, soos ek gisteraand vir jou gesê het. Ek móés hulle bel, jy’t self so gesê gisteraand, ons het ’n serious crime scene hier.” Conroy laat sy donkerbril van sy voorkop afglip tot oor sy oë. “Ja, oukei, oukei.” Hy beduie met sy kop na die twee polisiemanne wat na hulle aangestap kom. “Wat sê daardie twee clowns?” Tiger haal net sy skouers op en gaan sit weer op een van die los rotse. Hy was nog nooit ’n man van baie woorde nie en vir die pote is hy nie lus nie – van San Quentin se dae af. Laat Conroy maar die praatwerk doen, dis sy worries. Conroy hou die twee met die hond dop totdat hulle by hom is. Hulle het die polisie se velduniform aan: blou hemp, blou langbroek en seilstewels, bofbalagtige pet op die kop. “Dag, meneer,” groet die grote met die sterre op sy skouers. “Ek is kaptein Modise en hierdie is konstabel Jan van der Merwe van die honde-eenheid.” Conroy stel homself kortaf bekend. “Is dit u plek hierdie?” vra die offisier. Conroy skud sy kop. “Ek is nie die grondeienaar nie, maar die toring en ander masjinerie anderkant die rant is myne.”
“Ja, ek weet, die grond is meneer Koot Kruger s’n en ek ken vir hom baie goed.” Modise haal sy pet af en vee die sweet met ’n sakdoek van sy voorkop af, kyk in die rant se rigting van waar die gebrul van nog ’n voertuig nou gehoor kan word. “So, die mense wat weg is, hulle het vir jou gewerk?” Hy kyk Conroy met die een oog toegeknyp aan. “Ja, dit is my mense. Het julle enige teken van hulle gekry?” “Nee, meneer Bosman. Die reën het die spore weggespoel. Die een se keps lê daar, en ’n necklace ook. Daar’s bloed aan.” Conroy gooi sy arms in die lug en stap dramaties ’n paar treë weg en dan weer terug. “Weet jy wat ek dink?” sê hy terwyl hy trap-trap in die swart modder wat aan sy blou seilskoene bly vassuig. “Ek dink hulle lê iewers agter ’n bos hulle fokken roes en afslaap.” “Aikona,” sê Modise. “Dan sal hulle baie nat wees ná gisteraand.” Hy lag onderlangs dat sy maag skud. “Maar kom ons gesels eers met Koot,” sê hy en beduie met sy kop na die modderbesmeerde Toyota 4 x 4 wat in ’n lae rat deur die slote brul en langs Conroy se groen Landrover stilhou. Koot Kruger klim agter die stuurwiel uit en probeer sy kakiebroek met die breë belt aan ’n lussie oor sy groot maag optrek. Onder die velthoed met die tiervelband peul ’n paar grys krulle uit; sy pyp en twaksak steek by die kakiehemp se groen sak uit. “Kaptein Piet!” Die ou boer se stem weergalm tussen die rante. “Kwits, jou ou bleddie skelm. Leef jy wragtag nog?” Die polisieman en die boer groet mekaar met ’n geesdriftige handskud – eers hand, dan duim, dan weer hand. “Ja, Koot …” Die polisieman se oë lag saam. “Ek het gedink die luiperds het jou lankal opgevreet daar bo in die bosse.” Hy beduie na Koot se maag. “Ek kan sien aan jou se kondisie dat dit goed gaan met jou. Sit seker nou net op die stoep en koffie drink.” “Wat bedoel jy? Kwits, hierdie is ’n spierpens, jou ou leeglêer.” “Hoe lyk dit daar by jou plek? Die dinge loop nog mooi?” “Ja, Piet, deur die genade uitgespaar, my ou vriend.” Hy groet die ander, gaan
staan wydsbeen en lig die ander in, praat met wye handgebare. “Hierdie man het voor my grootgeword op Wonderfontein, net hier agter die rant. Toe het hy nog ’n stertriem gedra.” “En jou kakiebroek se gat het altyd ’n meelsak se patch gehad. Golden Cloudkoekmeel as ek hom mooi onthou.” Modise klap met sy hande op sy sitvlak, en die twee lag so uitbundig dat selfs die piet-my-vrou in die witstinkhout se kroon stil raak. Toe die geskater bedaar, vee Modise die lagtrane uit sy oë. “Ja, daardie was die mooi dae …” Die groepie mans se aandag word getrek deur die Toyota se deur wat klap. ’n Jong man klim uit en bly langs die voertuig staan. Koot kom eerste tot verhaal. “Tjaart!” bulder hy. “Kwits, man, moet nie net daar staan nie. Kom groet die mense.” Die jong man kom traerig nader. Dit is nie moeilik om hom as Koot se seun te eien nie: dieselfde sterk liggaamsbou onder ’n T-hemp wat los oor ’n denim hang; bruin, amandelvormige oë; blonde hare wat blink in die oggendson. Maar sy gesig is afgetrokke, sonder enige emosie. Hy groet die polisiemanne en Conroy met die hand en mompel binnensmonds iets; knik in die rigting van Tiger wat steeds op die klip sit en rook, sy oë verskuil agter ’n donkerbril. “Ja, ja …” sê Koot en kyk opsigtelik doer in die lug. “Die stil, diep soort kry jy ook.” Dan praat die ander polisieman die eerste keer. Hy pluk aan die leiband van die wolfhond wat langs hom sit en sê: “Tjaart, hoe lyk dit? Ek wil laer af teen die stroom gaan rondloer, kom jy saam?” “Ja-uh, so is dit maar,” sê Koot en kyk die twee agterna terwyl hulle afloop na die rivier toe. “Was saam op skool hier op Parys,” sê hy. Conroy, wat die hele gesprek geïrriteerd aangehoor het, lig sy arm asof hy Modise wil voorkeer. “Het julle verder niks gekry nie?” vra hy nors. “Nee, hulle is nie hier nie.” ’n Frons spring vinnig na Koot se voorkop. “Wat is dit nou, Conroy? Piet? Waarvan praat julle?”
“Twee van my werksmense het verdwyn, dis maar al,” sê Conroy sarkasties. “Dis nou volgens dié twee uniforms en die hond.” Koot wil iets sê, maar haal dan die kromsteel uit sy sak, blaas deur die steel en begin tydsaam twak met sy voorvinger in die pyp se kop inwerk. “Kwits, kêrels,” sê hy dan met ’n behoedsame blik na Conroy, “die son vat dooierus, kom ons gaan sit.” Hy beduie in die rigting van ’n paar boomstompe onder ’n blinkblaar. “Piet, wat het gebeur?” vra Koot toe hy en die polisieman sit en die pyp blou dampe die lug instuur. Conroy het net ’n paar treë agter hulle aan gegee en bly met gevoude arms staan. “Nee, ná die reën van gister is hier nie baie te sien nie,” sê Modise. “Die hond het op die bietjie spore geloop. Almal eindig by die rivier, daar waar die riete oop is, by die visvanggat.” “My fok!” Conroy skel koponderstebo; probeer steeds die modder van sy skoene kry. “Hulle kan nie net wegvlieg nie! Is jy seker die hond weet waar sy bleddie neus is?” Koot haal sy pyp onthuts uit sy mond uit en kyk Conroy skerp aan; Modise antwoord hom egter onversteurd: “Soos ek sien, kon hulle net in ’n boot geklim het. Dis al verduideliking wat ek kan gee, want dit lyk of hulle die water in is. Hulle het gegly in die swart turfgrond teen die wal af.” Conroy gooi ’n stok waarmee hy die modder van sy skoene afkrap in die witstinkhout in. “Daardie verdomde voël sal my nog mal maak!” skree hy agter die stok aan. Die piet-my-vrou vlieg op om in ’n wilger se top oorkant die rivier sy roep te gaan voortsit. “Kwits, Conroy,” sê Koot ergerlik. “Raak nou rustig en hou op kleitrap met daardie blou balletskoentjies van jou. Kom sit hier op die stomp, om die voëls met stokke te gooi sal nie help nie.” Conroy vee weer oor sy hare en sy grys kuif kry ’n modderstreep by. Hy vou sy hande agter sy kop en staan ’n rukkie so en staar na die hoë rante asof sy hulp daarvandaan moet kom. Hy is kennelik gewoond aan ’n gehoor, maar dié keer kry hy nie applous nie. Hy stap dan met ’n dramatiese laat val van die arms nader. “Koot, hoe kan hierdie … hierdie kaptein vir my sê hulle is met ’n boot
weg? Hier ís nie ’n verdomde boot nie!” “By die kamp daar aan die oorkant sal daar wees,” sê Modise. “Dalk het iemand hulle kom oplaai hierso.” Conroy skud sy kop moedeloos en gaan sit langs Koot op die stomp. “Wie? Hulle ken niemand daar nie, en wat van die bloed aan die keps?” “Dis vir die forensiese mense om te sê.” Piet Modise kyk Conroy op sy kenmerkende manier aan, met sy een oog toegeknyp. “Waarvoor het julle hier geboor?” vra hy. Koot kyk ook met nuwe belangstelling na Conroy, wat weer doenig raak met die modder aan sy skoene. “Ons het die prospekteerregte gekry, Modise,” sê Conroy, meer vir sy skoene as vir die polisieman. “Ons wou uitvind wat hier is, goud of steenkool, enigiets.” “As julle die goud soek, los dit maar. Hierso is niks.” Conroy los die stok en pluk ’n paar klitsgrasse van sy Nike-kouse af. “Fok, kaptein, ek het nie gesê ons is agter goud aan nie, ons kyk na alles.” Die offisier lig sy kop hoër, sy een oog steeds toe. “Ek sê maar net,” sê hy en lag effentjies, ’n Rukkie sê niemand iets nie en dan beduie Conroy met ’n uitgestrekte arm rivierop. “En daar by Venterskroon?” sê hy. “Dis nie ver van hier af nie, daar was goud.” Modise staan op, skud sy kop. “Daar is mos nie meer mense daar nie,” sê hy. “Die goud is lankal klaar gevat, daar’s nie meer nie.” Dan draai hy na Koot. “Wat sê die hof, Koot? Hulle moet mos padgee hier, wat hulle hier doen, is nie reg nie.” Koot klop sy pyp teen die boomstomp uit. “Dis reg, Piet. Ons het net gewag vir die hofbeslissing.” Hy draai na Conroy. “Jy weet goed wat jy moet doen, Conroy. Julle sal moet oppak en padgee. Nadat julle die omgewing herstel het, natuurlik.” Conroy staan ook op; skop na ’n graspol en kyk eers na Koot en dan na Modise.
Hy grinnik. “Ja, ek weet, gisteraand gehoor,” sê hy. “Natuurlik. Ek het klaar opdrag gegee dat Tiger moet begin met rehabilitasie. Die chopper sal môre nog mense invlieg.”
Conroy en Tiger kyk Koot se Toyota agterna – Modise het in die struikgewas langs die rivier verdwyn na waar die polisievoertuig verder stroomaf staan. “Jy weet dan nou, ons moet hier padgee,” sê Conroy. Tiger trek aan sy sigaret en knik terwyl hy die rook uitblaas. “Ek sal mense stuur om op te ruim, maar jy sal hier moet bly totdat ons klaar is.” “Ek is nie ’n bleddie tuinier nie, ek’s security,” brom Tiger. “In any case, ek bly nie langer hier nie.” “Nou wat de hel is dit nou met jou? Ek weet nie waar daardie ander twee grapjasse is nie, maar ek het iemand nodig hier. Veral as die chopper die goed invlieg.” Tiger skiet die stompie van hom af weg, lig sy pet effens en kam met sy vingers deur sy lang hare, versigtig om weg te bly van die knop. Conroy sien Tiger se vertwyfeling. “Jy het nie juis ’n keuse nie, pel,” sê hy. “Jy skuld my en ek kan daardie oproep enige tyd maak … jy moet net sê.” Tiger kyk nie na Conroy nie. Al weer daardie ou fokken storie, dink hy. Sal dit dan nooit ophou nie? Sal dit nie makliker wees om sommer nou van die klein windgat ontslae te raak nie? Skiet hom en smyt hom in die rivier. “Moet nie eers probeer nie, Tiger,” sê Conroy. Hy het gesien hoe Tiger se hand stadig na die pistool onder sy blad beweeg. Tiger weet Conroy is reg. Te veel mense weet dat hulle twee saam hier was. Hy draai om. “Oukei, maar ek bly nie langer hier as wat nodig is nie. Ek is moeg om ’n graaf saam te vat as ek wil gaan skyt. Kry vir my ander blyplek met ’n shower en ’n toilet. Daar is baie blyplekke in die koepel. Die skoonmakers kan hier slaap, ek sal bedags kom toesig hou en die goed by die helikopter collect. Hoe lank het ons nog tyd hier?”
“Ek skat so twee maande.” Conroy draai om en kyk uit oor die rivier. “Dis jammer, die plek was ideaal,” sê hy met sy rug na Tiger. “Niemand soek na dwelms in hierdie omgewing nie en dit was baie sentraal vir die verspreiding.” Conroy draai om en die twee mans kyk mekaar woordeloos aan. Hy sal nou ’n ander plan moet maak, dink Conroy. Gewoonlik het hy die goed self opgelaai as dit ingevlieg kom en dit met die grondpaaie deur die koepel Parys toe gery; daar het die verspreiders dit opgelaai. Nou sal hy weer ’n ander plan moet maak.
23
Pine het sy kop in ’n kombuiskas en dit klink asof hy in ’n grot praat. “Ann!” roep hy. “Ja?” “Waar’s die dip?” Ann kom kopskuddend die kombuis binne; haar rooi hare met ’n groen band teruggebind, die rooi-en-groen ’n treffende kontras met die swart van haar sweetpak. “Jy moet saggies,” fluister sy, “as jy Tiaan wakker raas, maak jý hom weer aan die slaap.” Sy maak die yskas se deur oop, bring die bakkie doopsous te voorskyn en sit dit op die tafel neer. “My ma het altyd gesê ’n mansmens kan nie soek nie. Wat soek jy nog?” “Ek’s orraait. Die biltong en die tjips is klaar in die lapa.” “En die polisiekoffie seker ook. Wanneer kom jou klomp pelle?” “Nou.” Pine loer na die kombuishorlosie. “Die game begin seweuur, maar ons wil eers ’n vleisie braai. En dis nie ’n klomp pelle nie, dis net Kat en Jerome.” Pine sit goedig brommend sy arms om sy vrou en druk haar teen hom vas. Hy laat sy hande teen haar rug afgly, vat haar boude in sy twee groot hande en gee dit ’n lekker ou knuffel. “Daar’s nie nou tyd nie, ou grote,” fluister sy. Pine weet daar is nie tyd nie, maar ’n man kan mos maar ’n bietjie cuddle. Ann leun styf teen hom aan en streel saggies oor die haartjies in sy nek. Hy weet dat hy vinnig besig is om, soos sy pa altyd gesê het, die roekeloosheid in te beweeg waar ’n man se knaters skielik in sy brein verander. Ann stoot hom weg en kry hom aan sy twee blomkoolore beet, soen hom sag op die mond, laat haar tong se punt vlugtig kontak maak met syne. “Ek hoor Jerome se motorfiets in die straat, en ek gaan laat wees vir my afspraak.”
Hoe de hel kan sy in sulke omstandighede ’n motorfiets hoor? Hy hoor net klokke lui en so ’n veraf gesuis in sy ore, soos van erge bloeddruk. Hy trek haar weer teen hom vas, soen haar hard op die mond “Pi-hen! My grimering …” Ann wikkel haar los uit die omhelsing, knyp sy wang en stap deur toe. Sy tel haar sportsak op en draai by die voordeur om. “Is jy nou seker jy kan alleen na Tiaan kyk?” Pine voel soos ’n hond wat van sy baas ’n skop pleks van kos gekry het. Hy knik bedremmeld. In hierdie stadium sal hy na ’n wilde leeu se mangels ook kyk as sy net wil terugkom, die deur toemaak en daai sweetpaktoppie oor haar kop wil trek … “Daar is twee bottels voor sy bed,” sê sy. “Die doeke is in die kas met die wipies.” Haar hare wil losmaak en … Dan dring wat sy gesê het tot Pine deur. “Wanneer laas het hy ’n vuil doek gehad?” vra hy en probeer glimlag. “Vanoggend.” “Nou dink jy hy sal weer … Ek meen, voordat jy terugkom?” Sy lag. Hierdie onverskrokke speurderman van haar is bang vir ’n vuil doek! “Ek dink so. Daar’s nou niks meer met sy magie verkeerd nie.” “Ag hel!” Pine staan met ’n bekommerde uitdrukking op sy gesig. “Ann, ek gaan met kos werk, ek kan nie ook met …” Hy sluk sy woorde in as sy haar ken effens optel en dáárdie kyk in haar oë kry. “Wat dan?” Hy sug gelate. “Dan maak jý hom dadelik skoon, anders brand sy boudjies.” Sy maak die deur oop, kantel haar kop uitlokkend en stap uit op die stoep. Maar dan draai sy om en roep om die deur: “En sê vir daai Kat hy moet die toilet se deksel toemaak! Tiaan gooi sy troeteldoek daarin. Die deur ook, anders rol hy die toiletpapier in die gang af.” “Moet nie dinge begin wat jy nie kan klaarmaak nie!” roep Pine agter haar aan. “Jy moet die een of ander tyd terugkom, ou girl, en dan sal jy moet uithaal en wys …” Die laaste woorde mompel hy binnensmonds, skuif sy broek gemakliker en gooi uit ’n blou plastieksak ysblokkies in die ysbak.
Dis nie vir Pine ’n probleem om met Tiaan te help nie. Bottel gee en droogmaak is orraait, maar ’n vuil doek is ’n ander dêm ding. Hy loop op sy tone gangaf, loer by die seun se kamer in … Alles is doodstil. Hy kyk na die ou Transvaalrugbytrui met die nommer een op die rug wat teen die muur hang, die klein witen-rooi rugbyballetjie met die Lions-logo op die babakassie voor die bed. As dié mannetjie eendag vir die Stormers skree, is dit nie sy bleddie skuld nie! Die worshond lê op die mat voor Tiaan se bedjie en hou Pine met ’n witoog dop, kap met sy stert op die grond. Is Tiaantjie nie té stil nie? Dit lyk dan of hy nie asemhaal nie! Pine sluip vinnig nader, luister met sy oor by die seuntjie. Die swart haartjies wat bo die kombersie uitsteek, het hy van sy pa geërf, dink Pine trots, en dis nie al wat hy geërf het nie! As Pine die kombersie wil regtrek, knor die worshond vir hom. Vlooi vertrou hom nie by die laaitie nie en hou hom fyn dop totdat hy weer by die deur uitsluip. In die lapa stel Pine die babamonitor en begin vuur maak. Die son maak self vuur teen die westerkim; sy laaste strale gee ’n stapel wolke in die suidooste ’n glansende kroon en nog verder oos lê daar goue katsterte teen die grougrys lug. Twee hadidas se gejil laat Pine sy kop opruk; hulle het geskrik vir Kat se ou maroen BMW met die stukkende uitlaatpyp, dis hý wat nou op die oprit dreun. Die hadidas vlieg skellend weg om iewers in ’n vlei ’n padda of ’n ander eetding te gaan soek, ás daar nog so iets bestaan in hierdie betonoerwoud. Pine klik spytig sy tong. As hy dink aan al die skoon damme en vleie daar tussen die OosVrystaatse berge waar hy grootgeword het … Kat Harmse en Jerome Williams kom om die hoek gestap; Jerome skraal met ’n kaalgeskeerde kop en Kat fors met ’n donker bos krulhare. Jerome het sy gewone T-hemp verruil vir ’n springboktrui wat los hang oor ’n blou denim met bokknieë. Die twee speurders dra tussen hulle ’n groot wit-en-blou koelboks. “Yes, yes, yes!” groet Kat luidrugtig. “As jy die laaitie wakker raas, maak jy hom aan die slaap.” Pine beduie met die knyptang in die huis se rigting; waai die rook uit sy oë. “Hoekom sit jy nie vir daai hanggat skorro-skorro van ’n BM van jou ten minste net ’n knaldemper aan nie. Die buurt se honde wil mal word as jy om die draai kom, tot die bleddie hadidas skrik vir jou.” “Hei! Hei! Hoe praat jy nou?” Kat gee sy snor ’n paar veë. “Daai motortjie is ’n classic, my pel! Dis ’n genuine 1981 Bee-Em-Dubbeljoe 528i. En moet nie die
‘i’ vergeet nie! Hy kan gat skoonmaak, my tjomma, hy kan gat skoonmaak.” “Die ding lawaai. As jy vir Tiaan wakker raas …” “Ja, ja. Ek het gehoor – dan maak ek hom aan die slaap.” Kat knip ’n kwartgelling Castle se prop met sy Bic-aansteker af. As hy dan móét gaskoeldrank drink, hou hy van genoeg, en groot is in elk geval altyd beter. “Het Ann jou tog nie alleen gelos met hom nie? Jy sal daai rooikopvroutjie van jou weer ’n bietjie moet vasvat, sy raak glad te tuis.” Hy laat bykans die helfte van die inhoud van die bottel in sy keel afgorrel. “Dis nie net vir vasvat nie, my pel, nie dáái enetjie nie.” Kat sak met ’n sug in ’n draadstoel neer. Jerome sukkel die kurk van ’n bottel Simonsvlei Shiraz uit en maak ’n langsteelglas vol. Pinkie in die lug proe hy versigtig aan die wyn, swaai die voggies ’n slag teen die sakkende son in die glas rond en sluk dan waarderend. Pine bekyk die twee geskok. Volgens hom drink ’n polisieman brannas-en-Coke, dis soos dit nog altyd was en dis soos dit hoort. “Watsit met die moffie-juice? Wat het geword van polisiekoffie?” Sy stem is hoog van verontwaardiging. “Ek’s dors. Wil my lyf regkry vir die bikini-asters in die koepel.” Kat maak die bottel leeg en breek ’n wind agter sy hand op. Pine gee ’n snork. “Daar’s nie bikini’s in die koepel nie! Jy gaan in elk geval nie tyd hê vir sulke dinge nie, jy gaan kursus toe.” “Én visvang, my pel. Visvang! Boeries sê sy pa gaan elke jaar daar babers en geelvis vang by die een of ander gasteplaas. Die goed klim glo sommer uit die water uit agter die platannas en die krappies aan.” “En wat van Mooi Annie?” “Mejuffrou Ysberg 2012!” Kat snork en knip die prop van nog ’n Castle af. “Ek sal wel ’n meer gewillige dingetjie daar optel wat my talente sal waardeer.” “O, my donner!” Pine kyk Kat onderlangs aan. “Onthou net die Sunbeam vir jou snorpunte.” Jerome se waardering van sy wyn laat hom nou eers ’n kwinkslag toe.
“Katoolsie, nou wat gaan julle tweetjies so op julle se lonesome self daar in die koepel aanvang? Klink mos vir my altevol na ’n honeymoon daai. As daai geel maan eers daai rivier se water strike en so romantic oppie water glitter …” “Ek raak nie aan daardie helkat met ’n geleende telefoonpaal oor ’n stukkende houttelefoon nie.” “O, my donner,” brom Pine weer. Jerome hou sy wynglas weer teen die lig, ondersoek die kleur noukeurig. “Die nektar van die gode,” sê hy en lig die glas in Pine se rigting voordat hy drink. “Gmf!” Pine gluur Jerome aan. “Gelukkig kan die bure ons nie sien nie. Jerome, gooi vir my ’n Klippies-en-Coke. O ja, voor ek vergeet, Ann sê julle moet die toilet se deksel oopmaak vóórdat julle piepie en weer toemaak as julle klaar is, die deur ook.” Kat druk sy voorkop teen die koue glas van sy tweede bottel. “Ek is nie van plan om in daardie rigting te beweeg nie, hier’s genoeg struike.” “Jy gaan die bure se kinders bang maak met daai ding van jou.” Voordat Kat kan terugkap, begin die monitor skree. Pine kyk pleitend na Kat en beduie met ’n uitgestrekte hand na die huis. “Ek is besig met die vuur,” verduidelik hy as die groot speurder hom vraend aankyk. “Ek?” Kat se welige swart wenkbroue trek vraagtekens, hy vryf aan die litteken teen sy kop. “Lyk my jou kop raas, my pel! Elke perd is verantwoordelik vir sy eie glipsies.” Jerome snork verontwaardig. “Daai was g’n niks ’n glipsie nie! Onthou jy nie hoe die tweetjies aanhoudend getry het nie. Die predikant het ook maar net betyds gevra of alles orraait is en dat hulle in daai case maar die ringe kan exchange, toe’s dit sulke tyd.” “Hel, ja,” sê Kat. “Hoe kan ek dit vergeet? Tot in sy kantoor ook, bo-op sy lessenaar tussen die moorddossiere.” “Is dit lekker om so te sit en stront praat?” Pine gee die braaitang vir Kat. “Dè, kyk na die vuur, en as ek nie opdaag nie, begin sommer braai ook. Ek het ’n idee
ek sal moet bad as ek klaar is met dáárdie paar boude.”
24
Die man agter die kateder is beslis nie van hier nie, hy’s bestel – ’n netjiese mannetjie met ’n groot blink kaalkop omring deur ’n kring grys hare. Byend is hy geklee in ’n liggrys pak, donkergrys hemp met ’n wit kraag en ’n grysgestreepte das, al staan die kwik op twee-en-veertig grade daar buite tussen die bome. In die konferensiesaal van die Puk se plaas Nooitgedacht is dit bedompig. In die bosse langs die Vaalrivier wat naby die saal verbyvloei, haal die sonbesies alles uit en die kraaie sit letterlik oopbek en gaap in die boomtoppe. Professor van Aardt kry die skyfievertoning op sy skootrekenaar reg, stel aan die projektor se fokus en as hy tevrede is, haal hy ’n klomp gekramde foliovelle uit sy aktetas en gee dit vir die mense in die voorste ry, beduie hulle moet vat en aanstuur. Doelbewus los hy die beeld op die skerm teen die muur. Die mense raak daarvan bewus en die saal raak stil. Hy het in sy doel geslaag. Van Aardt het ’n halfmaan-leesbrilletjie om sy ore gehaak en staan die gehoor selfvoldaan oor die lense en bekyk. Hy is ooglopend in sy skik met die reaksie wat die afgryslike beeld op die skerm ontlok het. Hy draai om na die grynsende mond met hier en daar ’n verkleurde vrot tand in die gryserige, gaterige tandvleis. “Meth-mouth,” sê hy selfvoldaan. “Tikmond.” Hy draai om, plaas sy hande weerskante van die kateder se blad en begin sy voordrag terwyl hy gemaak ongeërg met sy arms styf uitgestrek teen die kateder leun. “Dít is die mond en tandvleis van ’n jong meisie van sestien wat oor ’n nie te lang tyd nie tik chronies gebruik het. Sy kon later nie eens meer ’n toebroodjie eet sonder dat van haar tande uitval nie. Nie dat sy in daardie stadium meer lus was vir kos nie.” Hy bly ’n ruk stil om sy woorde te laat insink. “Metamfetamien, of beter bekend as tik, word ook in die strate genoem lolly, tsjoef, crystals, tuk-tuk, Hitler’s drug of popeyes. Omdat hierdie dwelm gewoonlik in strooitjies verkoop word, is ’n ander populêre naam straw. So ’n strooitjie, tussen hakies, dames en here, kan jou maklik R100 uit die sak jaag, en dan is dit ’n bargain, veral in die Kaap.” As niemand vir sy grappie lag nie, maak hy keel skoon, skuif sy brilletjie reg,
loer na sy rekenaar en gaan voort. Hy verduidelik dat hy hom veral gaan toespits op tik, heroïen en crack-kokaïen. “Die ergste is …” sê hy en lig ’n vinger om sy stelling te benadruk. “Die ergste is dat waar jy met laasgenoemde twee feitlik ’n fabriek nodig het vir die vervaardigings- en verfyningsproses, jy tik self in jou kombuis kan maak met bestanddele wat jy in ’n apteek oor die toonbank kan koop.” Die professor skink water uit ’n kraffie in ’n glas en vat ’n sluk. G’n wonder die vent se keel is droog nie, dink Kat. Hy is al van middagete af vir meer as ’n uur lank besig met lesings wat netso getik staan op die papiere wat hy uitdeel. Kat vee sy snorpunte vererg uit sy mondhoeke, kry nog ’n peperment uit die bakkie op die tafel en druk dit in sy mond. Dink die vent dan hulle kan nie lees nie? Hel, dit is warm, vrek warm! Kat kan voel hoe die sweet uit sy armholtes straaltjies teen sy lyf af maak. Die ghrênd aanroldeodorant wat hy spesiaal vir die geleentheid gekoop het, is dan veronderstel om ’n man droog te hou! “Die hoofbestanddeel van tik, efedrien, is in 2003 deur die Medisynebeheerraad tot ’n skedule 5-middel verklaar. So, deesdae moet jy ’n voorskrif hê om efedrien te koop.” Van Aardt skuif die dun goue raam hoër op teen sy neus. “Maar dit help niks! Daar is ’n spul pseudo-efedrienprodukte op die mark wat jy in enige apteek oor die toonbank kan koop!” Hy trek homself nader aan die kateder, praat sagter en laer: “Dit is verontrustend, dames en here, want tik is die dwelm wat die vinnigste veld wen, veral onder skoolgaande kinders en …” Die man se stem dreun voort; Kat se oë begin toeval, sy kop knik. Die middagete was te veel … en die kuier gisteraand in die boskroeg ook. Hy ruk wakker as Van Aardt met sy vuis op die katederblad slaan. “En weet u regtig waarmee het ons hier te doen?” Van Aardt se stem styg van die brommer-teen-die-ruit-toonhoogte wat vir Kat so moeilik was om te verduur. “Hulle sê die Nazi’s het dit in die Tweede Wêreldoorlog al gebruik as ’n combat drug om hulle soldate meer aggressief te maak en om hulle langer wakker te laat bly. Dit is waarmee ons skoolkinders besig is, en ons …” Hel, kan die man praat! Dis seker waarom hy ’n professor is. Kat gaap agter sy hand. Hy twyfel of selfs ’n paar snuiwe tik hom nou sal wakker hou. Kat se oë dwaal na Annie de Villiers wat voor in die saal by die ander sprekers sit, langs generaal Mboweni, die streek-kommissaris van Noordwes. Kat het met
die pouse gesien hul lekkergoedbakkies het sjokolade en sparkles ook in, nie net pepermente soos hulle gewone kursusgangers s’n nie. Dit lyk of Annie die ene aandag is. Hoe dan anders, want as die manne ná die aandete na Lekker Rus se boskroeg skuif vir ’n paar kappe, drink sy net een glasie chardonnay en gaan slaap. Dan is dit sý plig om die manne van Amerika tot laatnag geselskap te hou. Vir volk en vaderland! Hy kan mos nie gaan slaap vóór daardie klomp windgatte uit die land waar alles beter en groter is nie. Hy wonder net waar die stukkende plek op sy maermerrie en die knop op sy voorkop vandaan kom. Hy kan nie onthou dat hulle baklei het nie – sover hy weet, is hulle groot pelle uitmekaar. Sy kneukels makeer ook niks, en daar is ook nie vanmôre een van die Yanks met ’n stukkende gesig nie; hy het al gekyk. Kat vee gatvol met die kneukel van sy wysvinger die snorpunte uit sy mondhoeke. Hy onthou dan Annie se politoerstorie en as hy ergerlik weer na haar kyk, sien hy sy staar hom aan, haar wenkbroue in vraagtekens getrek. So vars soos ’n bleddie lenteblom, sonder ’n teken van ’n sweetdruppel, asof sy op Vrouekeur se voorblad sit. Blou denimlangbroek, ’n moulose wit bloes en oor die bloes ’n blou gehekelde dingetjie wat lyk soos ’n stuk visnet. Ai, as sy net nie so upstairs en vol dinges was nie kon hierdie kursus baie interessanter gewees het! Die professor met die halwe brilletjie beur nou deur sy lys van die effekte en newe-effekte van tik. Kat sit sy kennebak op sy handpalm en staar tussen die bosse en bome in na waar ’n man met ’n trekker en ’n swaailem besig is om gras te sny. ’n Klompie veeryers loop en pik op die gesnyde bane die goggas wat deur die swaailem bygekom is. Ag, hoe lekker is dit hier tussen die ysterkoppe en die bome met die rivier se geraas in jou ore. En as daar nou nie ’n wit bloesie onder die visnetjie was nie … Kat is skoon onthuts toe die luide geskraap van stoele sy paradyslike toneeltjie versteur. Hy kyk vervaard om hom rond. “Is hy klaar?” vra hy aan kaptein Dick Delport, ’n speurder van Potchefstroom wat langs hom sit. “Nee, dis koffietyd,” brom Dick, staan op en mik na een van die glasdeure. Hy haal ’n pakkie sigarette uit sy hemp se sak. “Kom ons gaan rook.” Kat volg die skraal speurder met die hardegathouding by die deur uit tot in die helder sonlig. Hy en Dick is in dieselfde bungalow in die Lekker Rus-oord;
Annie bly alleen in die een net langs hulle. In die skaduwee van ’n groot blinkblaar-wag-’n-bietjie laat Kat sy aansteker se vlam uit sy vuis opspring, hou dit vir Dick. “Wag, moenie doodmaak nie!” Kan jy nou meer! Dis Annie wat tussen hulle indruk met een van daardie lang, dun siegretjies wat die vroumense rook in haar mond. Sy sit haar hand op Kat se pols om die vlam stil te hou en suig die sigaret aan die brand. Van so naby kan Kat die visnet se gate mooi sien; sy dagdromery van netnou was nie heeltemal so vergesog nie. Sy staan naby genoeg aan hom dat hy haar parfuum kan ruik – die telefoonpaal en die geleende houttelefoon is heeltemal vergete. “Dankie,” sê Annie met daardie hees stem van haar wat alewig Kat se snor laat jeuk. Sy blaas die rook tussen die blinkblaar se takke in, wag dat Kat ook opsteek voordat sy praat. “Dit is geen wonder jy sit en visvang terwyl professor Van Aardt praat nie, julle tweetjies het eers tweeuur vanmôre in die bed gekom.” “Ja, wel, ons kon nie net loop nie, dis ongeskik,” sê Kat, vies vir dié vroumens wat sy ewewig so maklik versteur en nie haar neus uit sy sake kan hou nie. “Gmf! Julle kon glad nie loop nie, het dit vir my geklink. Was dit nou nodig om so te lawaai? Daar is mense wat daardie tyd van die nag probeer slaap, weet jy?” Kat kyk vraend na Dick. “Het ons geraas?” Dick vee sy blonde kuif uit sy oë. “Ek weet nie, ek kan nie onthou nie. Ek … ek dink ons het iets gesing.” “Jy is heeltemal reg,” sê sy. “’n Baie vals weergawe van ‘Rock Around the Clock’. Julle moes dit by die Yanks geleer het.” Die twee speurders kyk na mekaar, haal hulle skouers op, trek die sigarette rooikool. Koffietyd is amper verby. “En die asblik?” vra sy toe dit blyk dat die twee polisiemanne nie te geneë is om op die saak in te gaan nie; haar donker oë tergend van die een na die ander. “Watter asblik?” vra Kat dikmond.
“Die een waaroor een van julle geval het. Die honde het daarna die papiere en gemors die hele wêreld vol gedra.” So dít is waar sy seer maermerrie en die knop aan sy voorkop vandaan kom. Kat skiet die stompie van hom af weg. “Kom, Dick, kom ons gaan in,” sê hy, gluur Annie aan en vee driftig sy snor uit sy mondhoeke. “Ek kan nie wag vir die res van die lesing nie.” Ysberg! Dokter No! Die telefoonpaal en die telefoon van hout skielik terug in sy kop. Kat het nou finaal besluit hy is klaar met haar, sy’s te vol stront. Een van daai wyfiespinnekoppe, dis wat sy is. As sy klaar gepaar het, vreet sy die arme mannetjie op. Hy wat Kat is soek nie weer so iets nie, hy was al daar. As Danelle met haar poeiersnuiwery gaan aanhou, is die moontlikheid daar dat hy vir Rohan weer in sy sorg sal kry, en dan wil hy nie weer met ’n helleveeg deurmekaar raak nie. Die laaitie sal ’n ma nodig hê, nie een wat hom nie eens sal toelaat om ’n bal op die erf te skop, of sommer in die hoek agter die boom te staan en pie nie. Of sal dwing om die toilet se sitplek heeltyd toe te hou …
25
Lekker Rus se kampeerterrein het uiteindelik tot rus gekom. Selfs die lawaai in die boskroeg is stil – die konferensiegangers het nie weer kans gesien vir ’n gefuif tot tweeuur die môre nie. Nou gooi die maanlig ’n sagte geel kombers oor die koepel, en die nagmusiek van paddas, uile, krieke en die water wat saggies deur stroomversnellings murmel, sorg dat almal rustig slaap. Of, nee, nie heeltemal almal nie. In sy bungalow lê ’n groot man met ’n swart snor, sy een hand onder sy kop. Hy luister na die gesaag van sy kamermaat met ’n baie stomp saag aan ’n baie harde stuk hout, en hy dink aan die vrou met donker oë en swart hare in die aangrensende bungalow. In een van die werkershuise aan die kant van die kampterrein lê daar nog ’n man na die plafon en staar. Hy word wakker gehou deur ’n ou koeëlwond aan sy heup en die gedagtes aan ’n vrou met die listige groen oë van ’n kat en die lang blonde hare van ’n engel. Charlie Stevens kam met sy vingers deur sy baard. Waar de hel is daardie groenoog se seun, leef hy nog? Een van Charlie se take in die vakansieoord is om by die boere in die koepel en op Potchefstroom vleis en groente te gaan oplaai. Die foto van die seun is altyd by hom en dan vra hy maar waar hy kan, maar niemand het die laaitie gesien nie. Dit is asof hy nooit bestaan het nie, asof die koepel hom ingesluk het. In ’n rondawel in die ouer deel van die kamp, nader aan die rivier, sit nog ’n groot man op die rand van sy bed. Sy voorkop rus op sy hand – die hand en voorarm swaar getatoeëer – en sy lang hare val oor sy gesig. Hy rook ’n sigaret en dink. Hy wonder oor die twee boormanne wat by die rivier verdwyn het en nog nie opgespoor is nie. Hy wonder oor wie hom by die rivier oor die kop geslaan het. Soms gaan sy oë na die swaar pistool op die kassie voor sy bed. By ’n woonwa naby die rivier gloei die kole nog effens onder ’n rooster by die braaiplek; die geur van gebraaide vis hang ook nog in die lug. Uit die woonwa kom ’n gesnork. Twee mense wat diep slaap. In ’n warm stortbad in die
ablusieblok het hulle die dag se modder en visskubbe en sweet en braairook afgewas en nou slaap hulle salig, moeg gerook, moeg gedrink en moeg geëet. Op ’n kampbed in die woonwa se voortent sit ’n blonde meisie in ’n lang wit nagrok. Sy staar droomverlore by die tent se opening uit na bome en bosse waarop die wit lig neerstuif van lamppale wat by elke kampeerplek staan. Sy kan ook die rivier sien wat hier ’n rustige diep en donker poel vorm ná sy witwatergejaag oor die klippe hoër op. Sy dink aan die bruingebrande lyf en sonverbleikte hare van die nuwe lewensredder by die swembad. Oom Jurie het die een of ander toeval of ’n ding gekry en dié hunk met die awesome lyf het kom uithelp – glo van die universiteit af. Baby het al met hom gesels, hy is eintlik ’n student van die Universiteit van KwaZulu-Natal en ook ’n lewensredder by Durban se suidstrand. Hy het glo die een of ander geleerde navorsing by die Puk kom doen; hy het gesê wat, maar sy het nie verstaan nie, ook nie juis omgegee nie. Clinton is sy naam. Hy is Engels en hy het die mooiste paar blou oë wat sy nog ooit aan ’n man gesien het. En hy is ook verlief op haar, daarvan is sy seker. As sy in haar bikini lê en sonbrand kan sy sy oë op haar voel, veral as sy op haar maag lê en haar toppie se bandjies losmaak. Baby glip haar plakkies aan haar voete, vat haar ma se Bic-aansteker van die opvoutafeltjie en sluip saggies by die tent uit. Sy stap met die voetpad verby die ou rondawels af na die rivier toe. Die blink water knipoog vir haar. Op ’n sandbank langs die rivier, waar ’n omgekeerde roeiboot en Clinton se kano lê, skop sy haar plakkies uit en gaan sit op die kano met haar voete in die water. Sy sit en droom oor haar lewensredder. As sy hom net so ver kan kry om haar een aand hier te ontmoet, hier op die sandbank op een van haar ma se komberse. Onder die helder sterrehemel. Net hulle twee. Baby streel sag met haar hand oor een van die kano se twee sitplekke, vroetel dieper in die kano se binnegoed rond totdat sy die plastiekbakkie onder ’n veiligheidsbaadjie voel wat hy vanmiddag vir haar gewys het – hy het dit sy “lifeline” genoem. Sy knip die deksel oop. Binne is die plastieksakkie met die blaartjies wat oorgebly het nadat hy vir haar ’n spliff gedraai het, ook nog ’n paar van die wit kristalle wat hy in die gloeilampglas gebrand en toe die wit dampe gesnuif het. Tik! Sy weet, sy het dit al by die skool by van die ander kinders gesien.
Baby loer om haar rond, sien net ’n slapende kamp waarin niks beweeg nie. By die woonwaens is dit donker, en hoër op teen die rant by die luukser bungalows brand nog net hier en daar ’n stoeplig. Verder stroomop, naby die witwater, brand ’n eensame lig op die rivier se wal. Seker ’n hengelaar wat in die stroomversnellings geelvis vang. Dit voel vir haar of sy alleen is in die kamp, alleen is op die hele wêreld. Hier by die rivier op die sandbank is dit net sy en die donker water en die naginsekte. Sy gooi die paar kristalle versigtig in die gloeilamp, aarsel ’n oomblik, dink aan wat Boeries gesê het oor die dwelm. Maar sy wíl weet, die kinders by die skool vertel wonderlike stories daaroor en sy sal tog nie verslaaf raak aan die goed nie! Net kan saampraat met die ander. Sy hou haar ma se aansteker se vlam onder die glas soos sy Clinton dit sien doen het. Die kristalle gee skielik ’n wit rook af wat by die gloeilamp se oop bek uit in die koel naglug verdwyn. Sy maak haar oë toe en trek van die dampe diep in haar longe in, blaas haar asem uit, snuif weer. Die reaksie is feitlik onmiddellik. Sy voel skielik asof sy in die lug dryf en saam met die wit vlieswolke voor die maan verby vlieg. Lig en vry. Clinton se gespierde lyf is om en oor haar en sy wil hom nog stywer vashou en met haar lippe teen sy souterige vel wegdryf … weg, weg, weg na waar wilgertakke ’n gordyn om hulle maak en hulle rondrol op sagte groen gras en wit en pienk blomme op hulle val. Baby staan op en sit haar hande op haar borste, krimp effens ineen en laat haar hande stadig afgly oor haar lyf. Sy knyp die sagte materiaal van haar nagrok by haar heupe tussen twee vingers van elke hand vas en trek die rok oor haar kop, gooi dit eenkant op die sand neer. Nou is net die koel lug teen haar lyf, haar voete in die water; sy strek haar arms bokant haar uit, wring haar vingers inmekaar. Baby beweeg stadig, voetjie vir voetjie dieper die water in. Die koeligheid styg op, op, op teen haar bene … haar lewensredder se hande; haar vingers saam met syne, soekend, liggies, troetelend. Die water stoot op oor haar heupe, raak-raak aan die mik van haar lyf en sy knak haar knieë, syg behaaglik in die water weg totdat haar hare lig om haar dryf. Sy sak dieper weg, die water in haar mond. Sy maak haar oë toe, voel die sagte aanraking orals aan haar lyf. Dan maak Baby haar oë oop. Dis donker. Stiknagdonker! Iets draai soos ’n vis in haar binneste en sy kom vinnig regop. Sy hoor die geplas van water wat van haar stroom, vee oor haar oë en druk haar nat hare agter haar ore in. Sy kyk om haar rond. Wat was dit? Sjoe. Wanneer laas het sy so lewend gevoel? Sy swem
sommer dwarsoor die rivier, soos ’n vis onder die hiasinte deur en teen die stroomversnelling op. Maar dan is daar iets glads en slymerigs tussen haar voete, sy gee ’n gilletjie en hardloop op die sand uit. Babers! Sy haat die goed. Haar pa sê by die Vaaldam se wal is daar babers wat so groot is dat hulle mense kan insluk. Hier praat die mense ook van ’n riviermonster, glo ’n groot likkewaan wat mense na sy lêplek in die dieptes sleep. Ag wat. Baby wring die water uit haar hare, staan ’n ruk stil met haar arms wyd gesprei. Sy draai ná ’n ruk om. Nou sien sy weer die stil oord met sy ligte; sy raak bewus van die koel naglug teen haar nat lyf. Dit word nou koud, dink sy en ril. Sy vou haar arms om haar bolyf en voel hoe die vroeëre energie soos ’n gladde vis uit haar hande glip. Sy kyk angstig om haar rond en begin dan naarstig op die sandbank rondsoek. Sy krap met bewende hande in die sand totdat sy die plastieksakkie kry. As sy nog net één keer voordat sy gaan slaap weer daardie hemelse gevoel kan beleef. Maar die sakkie is leeg, die plastiekbakkie ook. Daar is wel nog ’n bietjie dagga en sy oorweeg dit ’n oomblik, besluit dan daarteen. Sy versteek weer die bakkie in die kano, tel haar nagrok op en trek dit oor haar kop. Sy stap stadig terug na die oord, voel met elke tree ’n hoofpyn harder klop. In die deur van sy rondawel laat Tiger die verkyker sak. Hy skud sy grys hare met ’n ruk van sy kop uit sy oë. ’n Halfuur gelede het hy hom verbeel hy sien weer iets in die bosse oorkant die rivier. Hy het die verkyker gegryp en kon sweer daar is ’n beweging tussen die waterhiasinte. Daar was momenteel iets wat die maanlig weerkaats het en toe ook die oop kol in die plaat waterplante, asof dit weggedruk is … Maar toe verskyn die blonde meisie op die sandbank. Tiger kan nou nog die meisie se gestalte uitmaak en sien hoe sy in een van die woonwaens verdwyn. Die roering wat hy in die waterhiasinte gesien het, is nou heeltemal vergete – verdring deur ’n roering in sy onderlyf. Wanneer laas het hy iets só eroties gesien? En sy is nog maar bogkind, dié waternimf. Hy het die tikpyp ook gesien, ja. Wat ’n nes is dit nie hierdie nie, wat ’n lieflike nes vol lieflike vroue. Lieflike vroue, voorwaar. Hierdie enetjie is nie die enigste een nie, daar is minstens nog die swartkop wat boontoe alleen in ’n bungalow bly. Dis wat hy nou nodig het, ’n lieflike vrou wat haar lang swart hare oor hom laat val en smeek vir meer …
Die hengelaar leun tevrede terug in sy Campmaster-seilstoel; sy Coleman-
gaslamp blaas gesellig en gooi sy ligkol tot byna waar die stroomversnelling wit maanhare maak. Wat wil ’n man nou meer hê? Sy fuik is vol geles wat skoon baklei het oor die klein krappies wat hy aan die hoek sit. Dan het hy op die rooster ook nog ’n lekker dik rol boerewors wat vet drup op die kole, en net vir die eensaamheid hier langs die rivier ’n knertsie in die hand. Die koepel is rustig vanaand. Benewens die gesis van die lamp en die geluid van die water is daar van ver die gedoef-doef van ’n Lister-enjin wat deur die ligte bries aangedra word. Stroomaf, by die oord, skyn nog ’n paar ligte, maar verder is dit net hy en die koepel. Hy glo dat as hy stil genoeg sit, hy die koepel met hom sal hoor praat – die rantjies sal hom vertel van die swael en vuur waaruit dit ontstaan het, van die ou mense met hulle klipstrukture wat hierdie wildernis kom ontsluit en hier gesterf en verdwyn het ook. Daar is mense wat glo dat die ou mense se spoke op maanligaande nog hier tussen die koppe rondswerf om hulle te teister wat hierdie paradys nie wil waardeer nie … ’n Tak kraak in die bosse agter die hengelaar en hy skrik regop; kyk benouderig om hom rond en as hy niks gewaar nie sit hy weer terug in die stoel. Wat sal hy nou met dié spookstories bodder, want dit is net wat dit is: oumensstories.
26
Annie de Villiers kyk doer in die vroemôrelug in. “Waar’s jou vriend?” vra sy, net-net nie uit die hoogte nie. “Watter vriend?” “Jou kamermaatjie, kolonel Harmse.” Hel, sy weet hoe haat hy daardie rang! Was daai Ghaddafi nie ook ’n kolonel of ’n ding nie? Hy wonder wat sy sal sê as hy haar dokter Mooi Annie begin noem. Maar sy is so bleddie vol van haarself sy sal dit nog geniet ook! Kat en Annie staan en rook weer onder die blinkblaar. Oral oor die natgedoude grasperk kom die ander kursusgangers aangedrentel; sommige staan in groepies en kyk na waar ’n paar swartwildebeeste teen die hoë kop agter die sentrum wei, hul wit stertkwaste besig met die muggies en vlieë wat vroeg reeds lastig is. Dit gaan vandag weer vrek warm word hier tussen die kliprante! Kat besluit om Annie tog maar uit haar vroulike nuuskierigheid te verlos: “Daar het laas nag ’n hengelaar hoër op langs die rivier verdwyn; almal van die Buffelskloof-stasie en Potchefstroom is aan die soek.” Annie druk haar sigaret dood in die plastiekemmertjie met sand langs die glasdeur. “Laas nag? Is dit nie ’n bietjie te gou om te begin soek nie? Hy het dalk net by ’n pel gaan hoeke buig of knope knoop of whatever hengelaars ook al doen as hulle nie agter hulle stokke sit en slaap nie.” “En sy nuwe vier-by-vier en al sy visgerei net so gelos met ’n geelvis aan die hoek en ’n kiepnet vol blink lywe?” As Kat sien hy beïndruk haar nie, voeg hy by: “Én ’n vol glas J&B onder sy stoel? Daar’s nie ’n manier nie!” Annie vou haar arms, vryf ’n paar van die lang swart hare wat die poniestert ontsnap het uit haar oë. “Ek moet sê, die J&B is verdoemende getuienis.” Sy sug vermakerig. “Hulle kan maar begin soek, iets ergs het beslis met die arme man gebeur.”
Feminis! Kat vee oor sy snor. As dit ’n vroumens was, sou dit weer die handsak wees wat beslis nie daar gelos sou word nie. “Nick Delport sê daar het ’n ruk terug ook twee mans hier langs die rivier verdwyn, net so, sonder taal of tyding.” Kat skiet sy stompie tussen die struike in. “Twee maande terug ’n vrou ook. Toe hulle haar ná ’n ruk tussen die riete kry, was haar lyk al erg ontbind. Die outopsie het gesê sy het verdrink.” Annie skud haar kop en sug. “Ja-nee, as hulle lank in die water was, lyk hulle maar sleg. Daar is nie baie oor nie.” Sy draai om en begin na die deur van die konferensiesaal stap. “Kom, ons moet ingaan, die volgende lesing gaan interessant wees.” “Wat jy waar kry?” “’n Ma praat oor haar tikverslaafde seun,” sê sy oor haar skouer. Kat kyk haar agterna: hoëhakskoene, korterige swart rompie, wit bloes … nie sleg nie. Hy wonder net waar is haar visnet vanmôre.
“My naam is Helen Peterson, en ek is ’n tik-ouer. Ek en my seun Rodney bly … het gebly, in Bronville. Dit is ’n settlement by Welkom in die Vrystaat.” Die vrou staan penregop agter die mikrofoon. Haar arms hang slap langs haar sye, die linkervoorarm en -gewrig in gips. Haar rooi langmoubloes se knope is tot bo toegeknoop, tot by ’n veelkeurige nekdoek, en oor haar kop is daar ook ’n doek geknoop. Iemand het ’n ruiker met ’n pienk angelier aan haar bors gespeld. Helen Peterson is ’n middeljarige vrou met ’n harde trek om haar mondhoeke en ’n doodsheid in haar oë. Terwyl sy praat, is haar oë sonder emosie gefokus op iets teen die saal se agtermuur, haar stem so afgetrokke soos dié van ’n bandmasjien. Kat reken hy kan ’n verkleuring om haar linkeroog sien wat nie heeltemal deur haar grimering weggesteek kon word nie. “Ons het eers op die Kaapse Vlakte, in Grassy Park, gebly,” sê sy. “Ek, my man en onse twee seuns. My oudste seun was vroeg al ’n tik-addict en het op die ouderdom van vyftien van Aids gesterwe, dáár op die Vlakte. My man het ons verlaat, en is tot vandag nog missing.”
Jy kan ’n speld hoor val as Helen ’n rukkie stilbly. Dan hervat sy haar verhaal van die uiterste ellende. Sy vertel van lang ure wat sy by ’n droogskoonmaker gewerk het om die eise van enkelouerskap te probeer hanteer. Uiteindelik moes sy en haar seun Rodney Vrystaat toe trek sodat haar familie kon help. “En om weg te kom van die gangs en die geweld … en die tik. Veral die tik.” Die mense sit byna ademloos en luister na die afgetakelde vrou se relaas van haar pogings om weg te kom van die dwelms, en hoe dit ironies genoeg dalk juis gelei het tot haar seun se verslawing. Sy vertel hoe sy die eerste tekens gesien het. Hoe sy gewaarsku het, gedreig het, gesmeek het … En hoe dit al uit die staanspoor te laat was. Kat sit met sy elmboog op die tafel, vryf saggies aan die litteken oor sy slaap. Anders as die kort mannetjie met die kaalkop van gister, het dié vrou sy volle aandag. Dit is ’n verhaal wat hom laat dink. “Ek het ’n werk as ’n huishulp in Welkom gekry, maar die geld was te min en ek kon hom nie help nie. Wou hom nie help nie!” Sy vee trane met die bal van albei hande af. “Watter ma sal vir haar kind help om ’n ticket hel toe te koop?” Daar is ’n ongemaklike spanning in die saal. Van die koppe sak; hier en daar is ’n kug, ’n onbeholpe tas na ’n waterkraffie of peperment. Kat gee sy snor ’n paar driftige vrywe, loer na Annie. Sy sit net stip en kyk na iets voor haar op die tafelblad. Die vrou vertel van inhegtenisnemings sonder enige effek. Hoedat haar seun hul eiendom begin verkwansel het om tik te kon koop. Hoedat hy haar begin aanrand het. “Ek was ’n gevangene in my eie huis, moes veiligheidshekke oral aanbring, tot voor my slaapkamer se deur, net om ’n bietjie slaap te probeer kry. Maar as hy snags laat by die huis kom, dan breek hy die hekke of die vensters, net om in te kom om iets te steel om te gaan verkoop. Ek … ek het in vrees geleef, vir … vir my eie seun!” Dit is die godskreiende verhaal van ’n vrou wat nóg van die polisie nóg van sentra vir dwelmverslaafdes hulp en beskerming kon kry – beskerming teen haar eie seun. “Ek wou hom later self vrek maak, soos ’n hondsdol hond … in sy slaap sy kop met ’n baksteen verbrysel, maar ek wou nie ’n tweede Ellen Pakkies wees nie. Ek het nie kans gesien om in die tronk te gaan sit vir die dood van so ’n nikswerd mens nie.”
Dit is asof selfs die voëls buite in die bosse sit en luister. “Hy het eenkeer vir drie dae nie huis toe gekom nie, en ek was bly, want ek kon weer leef. Ek het gehoop iemand het iewers ’n meslem tussen sy ribbes ingedruk … ek het gefantasise hoe sy liggaam agter een van die slikdamme of in ’n bloekombos iewers lê …” Sy kyk pleitend na die gehoor. “Watse soort ma is dit wat so aan haar kind dink?” Kat weet waarvan sy praat. Hy sien nog die bebloede lyk van ’n ma langs ’n pot met ’n broodboom in, haar kop stukkend geskiet deur haar tik-opgefokte laaitie. Hy skuif rond. “Bliksem!” sê hy, harder as wat hy wou en enkele mense kyk vinnig na hom, laat sak dan weer die kop. Gelukkig is dit nie waar Helen Peterson se verhaal geëindig het nie; nie dat dit haar enige lyding gespaar het nie. Haar seun het teruggekom van waar hy ook al was. Hy het weer geld geëis. Toe sy weier, slaan hy haar arm met ’n piksteel af en gryp haar horlosie en radio. “Ek het hom nooit weer lewendig gesien nie,” sê sy. “Die polisie het hom in Welkom geskiet, toe hy met ’n gesteelde wapen een van hulle gewond het. Ek moes sy liggaam gaan uitken, maar dit was nie moeilik nie. Dit was vir my net dieselfde as om ’n gesteelde fiets te gaan uitken.” Nadat Annie vir Helen gehelp het om die lapelmikrofoon los te knip en vir haar ’n stoel uitgetrek het, was daar ’n oomblik lank ’n byna eerbiedige stilte. Toe begin iemand hande klap, stadig, gedrae, al hoe vinniger. Iemand het opgestaan, toe nog ’n paar en in ’n ommesientjie was almal op hulle voete, en was dit asof ’n groot swerm voëls tussen die bome by die rivier opfladder in die ylblou lug in.
27
Die meeste konferensiegangers het hulle verpligtinge vir die dag in Nooitgedacht se saal afgehandel. Ná Helen Peterson se praatjie was die atmosfeer gedemp en hulle het net gepeusel aan die lasagne, groenslaai en broodrolletjie wat die susters van die een of ander gemeente in Potch elke dag vir aandete voorsit. Heelparty van hulle het hulle gou uit die voete gemaak na Potchefstroom of Parys se kuierplekke, vir ’n paar doppe en ’n ordentlike ete, en om ’n rukkie te vergeet van die neerdrukkende werklikhede van dwelmverslawing. Kat is ook Potch toe, maar nie om te gaan kuier nie, om te gaan kos koop. Hy was nie lus vir die klomp windgat Amerikaners nie. Hulle sou weer vir almal vertel dat sulke dinge nie daar by hulle sal gebeur nie, en dat hulle dit anders sal hanteer. Seker soos in Viëtnam of Afghanistan! Nou stap Kat met die geplaveide paadjie af na Lekker Rus se boskroeg toe; hoogs tevrede met sy Potchefstroomsending. Hy is nou moeg vir Lasagne en slaai – ’n man kan mos nie heeltyd wil staan en soek na jou vleis tussen die stysel nie! Slaai is bokkos, en as hy te veel van die broodrolle en appelkooskonfyt eet, vrek hy weer van die sooibrand en raas sy pens harder as Nick Delport se gesnork. Dis mos nie sy skuld dat sy ma sulke groot kinders gehad het nie, hy het kos nodig, regte egte kos: vleis! Op Potch het hy vir hom die twee grootste, dikste en sappigste T-bene in die hele Noordweste gekoop, ’n vars brood en ’n sak hardekoolhout. Vanaand maak hy self kos, stoksielalleen op ’n Saterdagaand … Kat sou lankal die vuur aangesteek het, maar Boeries Freislich se pa het hom genooi vir ’n knertsie by die kroeg, en soos hy ou Kris ken, sal dit niks minder as ’n paar knertse wees nie. Lekker Rus se boskroeg is eintlik net ’n groot ronde lapa – ’n teerpaalstruktuur met ’n hoë grasdak en ’n halfmas-klipmuur. Net agter die kroegtoonbank van dwarslêers is die muur tot bo teen die dekgras gebou, en hier is ook ’n deur wat na die kombuis en die drankkluis gaan. Ronde tafels met stoele staan die leiklipvloer vol, so gerangskik dat almal die DStv se groot skerm kan sien.
Vir ’n Saterdagaand is die plek maar stil. Op die groot skerm is die Proteas besig met ’n aandwedstryd teen Indië, maar niemand kyk juis nie. Die Freislichs sit byna reg onder die skerm by ’n tafel. Kris Freislich staan op toe hy Kat sien, wink hom nader met ’n glas wat vir Kat altevol na ’n baie ligkleurige Klippies-en-Coke lyk. Die man drink nie juis ’n single nie, sê dit maak sy bek net jags. Kat waai, knik vir Annie en Helen Peterson wat by ’n tafel by die deur diep in gesprek sit, die koppe naby mekaar, ’n bottel rooiwyn tussen hulle. Kat vleg tussen die tafels deur na die Freislichs toe. “Yes, oom Kris,” sê hy van ver af, bly om die man met die kortmou-kakiehemp, te kort kakiebroek en ’n paar fris kaal bene in lang waterskoene te sien. “Hei, Katoolsie! Watse ge-oom is dit met jou? ’n Oom is daai ding waarop jy sit, my pel! Ek’s op holiday, man, en voel soos ’n jong man.” Kris gee ’n hupsprong, knipoog vir sy vrou, sit sy arm om haar skouers. “Hè, ou Stiena, hè? Sê vir my ek lieg!” Hy bulder dat almal in die kamp dit hoor. Kat sien uit die hoek van sy oog hoe Baby haar selfoon ’n oomblik los en haar kop laat sak. “Kommen met ’n ‘k’, Pa, met ’n bleddie ‘k’,” kreun sy. “Hei, hei, hei!” kap Kris terug. “Ek is nie vanaand lus vir jou nonsens nie, meisiekind! Jy is al die heel bleddie dag dikbek.” “Kom sit tog, Kat, ou seun,” sê Stien en trek ’n stoel langs haar uit met ’n hand waarin sy ’n brandende Lexington vasknyp. “Die man droom drome.” Stien het haar ’n bietjie opgedollie vir die okkasie: hare netjies in krulle gekam, grimering, ’n amperse te klein wit T-hemp en ’n pienk langbroek met goue sandale. “Naand, tant Stien, naand, Baby,” sê Kat terwyl hy gaan sit. Baby knik net, hamer die klawers van die selfoon met haar duim. Agter Baby kan Kat oor die halfmas-ringmuur weerlig sien wat ver agter die koepel se rante spinnedrade trek. Hy kyk weer na die koponderstebo-meisie. “Kris, waar kom jy aan so ’n mooi meisiekind?” vra hy met ’n hangende onderkaak. Kris se gesig straal; hy sit weer sy arm om Stien se lyf, en trek haar nader. “Check die ma, my pel! Check die ma!” sê hy heeltemal te hard na Baby se smaak.
Baby kyk met rollende oë na Kat; oë wat smeek dat Kat haar nie moet raaksien nie. Maar dit is moeilik, want sy ís ’n pragtige meisiekind met lang blonde hare wat sy in ’n poniestert hoog agter haar kop vasgemaak het. Sover hy kan sien, het sy ’n volmaakte jongmenslyf en ’n naeltjiering wat blink in die spasie tussen in ’n kort T-hemp en ’n lae denimbroek. Kaalvoet boonop, wat Kat laat wonder hoe sy so in die donker tussen doringbome deur regkom. Dit voel soos gister dat hulle haar in Durban uit daardie hool gaan uithaal het. Sy het weggeloop en almal het gedink dat sy ontvoer is deur die bende mensehandelaars wat in die Goudvelde bedrywig was. En hoe lyk sy dan vir hom vanaand weer blekerig … dalk net te lank in die son gelê. “Het die ANC dan nou ’n verbod op dop ook gesit?” bulder Kris weer. “A nee a! Wat wil jy drink, ou seun? As ek reg onthou, enigiets solank dit brandewyn is!” Hy lag met ’n wye mond. Kat staan haastig op. “Wag, ek sal gaan kry. Wat kan ek saambring?” “Net ’n paar Cokes, en ’n glas vir jou. Vergeet die brandewyn, ons het genoeg.” Kris knipoog vir Kat. “Ma, asseblief, ek kan nie nóg ’n Coke inkry nie,” pleit Baby. “Bring vir haar ’n Smirnoff Spin saam, Kat. Die kind is groot genoeg daarvoor,” sê Stien toe Kris wil protesteer. “Volgende jaar is sy op kollege en dan ken sy nie die goed nie.” Kris sug gelate. “Oukei, maar net een. Kat sê daai man met die baard agter die counter moet dit sommer op my tab sit.” By die kroegtoonbank in die vorm van ’n perdeskoen, sit ’n bul van ’n vent met lang gryserige hare wat los op sy skouers hang. Sy moulose hemp adverteer die spiere op sy groot boarms en skouers. Kat het die breker al in die kroeg en elders in die kamp opgemerk. Hy is glo aan die oorkant van die rivier besig met die rehabilitasie van ’n stuk grond wat deur ’n boordery opgeneuk is. Nou sit hy met ’n lang glas in ’n hand so groot soos ’n skaapboud en in sy mond ’n sigaret wat hy net uithaal as hy aan die donker vloeistof in die glas teug. Hy sit en gesels met ’n regte laventelhaan, ’n korterige man met ’n Calvyn Klein-denim, ’n wit hemp met swart knopies en swaar goue Gucci-kettings om sy een pols en nek. Die laventelhaan se golwende bos silwer hare is netjies agteroor gekam. Dit moet die eienaar van die donkergroen Freelander wees wat voor die deur staan,
reken Kat. Kat sien hoe die bul met die help-my-sterk-lyk-hempie deur die rook vir Baby sit en uitkyk, dan die twee vroue by die deur. Dit is nie moeilik om te sien wat in sy gedagtes aangaan nie. Hy het ten minste goeie smaak wanneer dit by vroumense kom, dink Kat terwyl hy Charlie, die bebaarde kroegman, nader wink en sy bestelling plaas. Terwyl hy wag, hou hy die man met die moulose hemp uit die hoek van sy oog dop. Sy arms en skouers is die ene tatoes, meestal die Ierse drieblaarklawer. Sy hemp hang los oor sy denimbroek, maar nie los genoeg nie: tensy hy ’n baie groot en vergroeide stuitjiewerwel het, is daar ’n pistool onder daardie hemp. Kat hoor ook flarde van die twee se gesprek. Die man met die getatoeëerde spiere doen die meeste van die praatwerk, al is sy oë heeltyd op die vroue; hy noem sy gespreksgenoot meneer Conroy. ’n Interessante vent, dink Kat, iemand om dop te hou. Buite flits die weerlig nou nader en donderweer rommel en raas ’n ruk bokant die rante. “Hierso.” Charlie sit die drank voor Kat neer. “Ek sit dit sommer op Freislich se rekening.” As Kat in elk geval sy beursie uithaal, keer hy heftig: “Nee, nee! Hy’s klaar gatvol vir my oor die brandewyn. Wag, ek help jou dra.” “Gimme another Captain and Coke,” grom Spiere voordat Charlie vir Kat kan help en gooi die laaste van sy dop en ys in sy keel af. “Ek help jou nou, I’m just helping this gentleman.” “Ken ek jou?” vra Kat die kroegman. “Not ’n wiel. Jy kan maar sê ek’s die handyman hier rond. Ek is nuut hier tussen die rante.” “Ek ook,” sê Kat, “maar ek kan sweer ek het jou al iewers gesien.” Charlie stryk sy volbaard plat, skud sy kop. “Ek ken jou nie. Kom ons vat die dop, jy wil nie daardie breker met die gumboots laat wag as sy bek lus raak vir brandy-en-Coke nie.” “Gee jou glas,” sê Kris vir Kat nadat hy sy sit gekry het. Kris haal ’n bottel Klipdrift onder sy stoel uit en gooi vir hom en Stien en Kat elkeen ’n stywe
tweevinger. Kat loer in die rigting van die kroeg. “Moet nie worrie nie,” sê Kris met ’n tevrede steun. “Ek en Baardbek daar verstaan mekaar: Die bestuur weier om Klipdrift aan te hou, en ek weier om Wellington te drink, so, ek bring my eie.” Kris gee die glas aan. “Daar is ys in die coolbag, help jouself.” Kris kantel sy glas voor sy mond en terwyl hy sluk, draai sy oë na sy dogter. “Waar was jy gisteraand toe ek en Ma al in die kooi was?” vra hy. Baby se antwoord kom baie vinnig, asof sy die vraag verwag het: “Nêrens, Pa! In die bed, waar anders kan ’n mens nou wees in hierdie wildernis?” Die skielike blos oor haar wange en ore vertel egter ’n ander storie. “Wel, dan moet jy jou plakkies saans vasmaak, want hulle loop rond as jy slaap. Ek het hulle vanmôre toe ek gaan visvang, op daai kano by die sandbank gekry. Jou ma se lighter ook.” Kris wys met sy vinger na haar, wag totdat ’n besonder skerp weerligstraal wat die kamp helder verlig, wegrammel. “As ek jou vang rook, kry jou gat slae. En jy moet snags wegbly by die rivier. Daar’s monsters wat klein dogtertjies ontvoer en opvreet, vra vir Kat.” “Ek’s nie meer ’n klein dogtertjie nie!” Dis die hele bleddie probleem, dink Kris. As hy maar net alles geweet het, dink Baby. Kris beskou die gesprek as afgehandel en rig hom weer tot Kat. “Wat’s jy so stil vanaand, ou seun?” Kat teug aan sy dop, bly ’n ruk stil, loer in Helen Peterson se rigting. “Ons het vandag gehoor wat die tik-dwelm aan jong mense doen,” sê hy. “Dis baie erg hoe gesinne verwoes word.” Kat vertel die Freislichs van sy ondervinding met die seun met die haelgeweer. Baby luister aandagtig, haal dan haar skouers op. Sy is nie van plan om verslaaf te raak nie, so, dit is nie haar probleem nie. ’n Skielike weerligstraal teen een van die koppe naby die kamp laat die wêreld
na swael ruik. Die harde donderslag word gevolg deur ’n reënbui wat die water teen die skuins grasdak afjaag en die lapa as’t ware toevou in ’n waterval. “Nóú reën dit! Ek het jou gesê dis ’n aand vir gumboots, Stien.” “Gmf!” Stien skud haar skouers vererg, vou haar arms voor haar bors. “As jy jou sin kry, sal jy met die goed slaap ook.” “Oom Kris,” onderbreek Kat die argument, “jy moet nie alleen gaan visvang nie, daar het gisteraand ’n hengelaar verdwyn.” “Kattie, ou seun, ek ken daai game. Die manne raak gesuip, so op hulle se lonesome self in die nag met net die gesis van die Coleman vir geselskap. As hulle buk om ’n poeliesman aan die lyn te sit, neuk hulle vooroor in die rivier en is te gesuip om te weet of hulle gatkant of kopkant bo is. Dís wat van hulle word! Ek moes self al vir ou Cassie met ’n ghêf uit die Sandrivier sleep,” sê Kris selfvoldaan en kou ’n stuk ys dat die skerwe spat. “Ek is ’n ou aap, my pel. Ek loop laat, ek neuk nie in riviere nie.” Kris staan op, loer oor die halfmas-muur onder die grasdak se oorhang deur na die watergordyn om die kroeg. ’n Stroom water raas by die lapa verby af na die rivier toe. “Nou maar Katoolsie …” hy kom regop, “hier kan niemand uitkom nie, smaak my ons is vasgereën hier. Dan moet ons seker maar nog ’n ou knertsie maak? ’n Man kan mos nie op een been staan nie.” Stien snork verontwaardig. “Een! Jy lyk al soos ’n spinnekop wat gif gekry het en met gumboots aan op ’n stuk glas probeer loop.” Baby gee ’n diep sug en kyk op haar horlosie. Die oumense kan so vervelig raak! Clinton het gesê hy het nog van daardie wit kristalle, en hy het nou net ge-SMS – as die reën ophou, kry hulle mekaar op die sandbank. “Kat,” sê Kris met sy oë agterdogtig op sy dogter, “gaan kry nog Coke. En los die Spin, Baby het genoeg gehad.”
28
Toe die reën ophou, sien Kat die Freislichs by die lapa se ingang af, en toe hulle in die nag verdwyn, stap hy na die tafel waar Annie alleen bly sit het nadat Helen gaan slaap het. Daar is ’n frons op haar voorkop en sy staar na ’n leë wynglas wat sy tussen haar vingers in die rondte bly draai. Sy skrik uit haar bepeinsing op toe Kat op die stoel oorkant haar gaan sit. “Wat’s fout? Hoekom gaan slaap jy nie ook nie?” vra Kat en vryf sy snorpunte uit sy mondhoeke. “Helen Peterson,” sê Annie sag. “Sy maak my morbied.” Sy sit die leë glas op die tafel neer en kyk Kat stil aan. “Wil jy nog wyn hê?” Annie skud haar kop afgetrokke. “Sy het ons vanmôre die helfte nie vertel nie.” Sy streel steeds met ’n voorvinger die wynglas se steel. “Wat haar seun alles aan haar gedoen het, is ongelooflik wreed. Het jy gesien hoe toegeknoop sy is, niks steek uit nie, want haar arms en nek is nog steeds pers en blou. Jy moet haar nek sien, Kat. Hy het haar probeer verwurg met ’n fietsketting. Haar eie verdomde seun!” Kat sit sy hand op haar arm, maar sy trek dit terug en leun agteroor in haar stoel. Dan maak sy vlugtig met hom oogkontak. “Jammer, Kat,” sê sy sag. “Dis nie jy nie, dis net …” Sy haal haar skouers op en sug diep. Kat sit haar stil en aankyk. Hy sien die nattigheid in haar oë. Dokter Annie de Villiers, senior patoloog wat sonder om ’n oog te knip kadawers kan versnipper op soek na allerhande grillerige goed. Sy het tog ’n sagte kant ook. Dit laat hom nog meer vir haar voel. Kat staan op, stap om die tafel en sit sy hand op haar skouer. “Kom, kom ek stap saam met jou. ’n Warm bad en ’n warm bed is nou net wat jy nodig …” Annie wikkel haar skouers ergerlik en druk sy hand weg. “Los my, demmit, Kat! Ek wil nie nou gaan slaap nie.” Kat staan ’n rukkie oorbluf en afkyk op haar
glansende swart kroontjie. Wanneer sy weer praat, is dit heelwat sagter. “Ekskuus,” sê sy sonder om op te kyk na hom. “Haar storie ontstel my baie. Asseblief, los my net, ek sal môre weer oukei wees.” Kat bly besluiteloos agter haar staan. Hy moet eintlik nou loop, maar dis nog net hulle twee in die kroeg. Hulle twee en die takhaar … “Is this bugger bothering you, lady?” Die stem kom van vlakby Kat se regterskouer; hy kan die rum-asem teen sy nek voel.
Toe die reën uiteindelik bedaar, het Conroy sy glas leeggemaak en haastig gegroet. Ook die paloeka met die gumboots, sy vet vrou en sexy dogter het spore gemaak. Tiger het gewonder of sy weer gaan skinny-dip in die rivier; dalk sommer kaalgat in die reën rondhardloop. Sy’s ’n warm enetjie daardie, maar nog baie jonk, te onervare vir ’n man wat al iets van die lewe gesien het. Maar daardie lyf, daardie kaal wit lyf … Die kroegman het lankal “last round” geroep. Niemand het belang gestel nie en hy het toe maar gesluit en gemompel hulle moet net die ligte afsit as hulle loop, want hy gaan nou slaap. Tiger steek ’n vars sigaret met die vorige een se stompie aan en druk die oue in die vol asbak voor hom dood. Die swartkop by die deur is beslis nie meer ’n kind nie; sy is ’n vrou wat ’n man soos hy sal waardeer. G’n vulletjie nie, nie dáárdie een nie. Hy is seker sy was al oor die berg en met die rivier af. Die vrou wat heelaand by haar gesit het, het ook ná die reënbui gaan slaap. As daardie groot poot met die swart snor en die opgefokte oor nou net ook sy ry wil kry. Sy is duidelik nie lus vir sy stront nie. En hy is duidelik nie ’n ou wat weet wat beteken “los my, demmit” nie. Tiger vat sy glas en stap oor na haar tafel. Dit is die gaping waarvoor hy die hele aand gewag het. “Is this bugger bothering you, lady?” Annie kyk verbaas op na die man met die lang hare wat teen Kat verbygeskuur het en nou met albei dik arms op haar tafel leun. “No … no,” sê sy. “Everything is fine. Thanks.”
Tiger se een hand skiet oor die tafel en hy vat hare toe in sy groot vuis. “It does not seem so,” sê hy en kyk stadig van haar na Kat en dan weer terug na haar. Hy gryns. “Come with me,” sê hy met ’n stem wat daal tot byna presies waar sy koerasie sit. “I’ll see you safely home.” Annie probeer haar hand losruk. “Los my, jy maak my seer!” Pine sê altyd dat jy nie vir Kat kan kwaad maak nie; hy is altyd so halfmas die moer in. En as daardie Nike-litteken teen sy kop rooi begin flits soos ’n spietkop se lig, is dit te laat om uit die pad te probeer kom. Kat onthou die vent se oorgroeide stuitjiewerwel en hy beweeg agter hom in, gryp hom om sy dik nek en ruk hom weg van Annie af. In dieselfde beweging pluk hy die swaar pistool uit die man se broek en smyt dit by die deur uit. “Ek dink jy moet gaan piepie en loop slaap, ou grote,” fluister Kat in sy oor terwyl hy hom agteruit na die boskroeg se ingang sleep. Tiger hark sy stewel se hak teen Kat se maermerrie af, en as die speurder sy greep verslap, ruk hy los en met die momentum waarmee hy omswaai, slaan hy Kat se linkeroogbank oop. ’n Rooi wolk sterre en gekleurde ligte skiet deur Kat se kop, hy struikel agteruit, oor ’n tafel en val ’n stoel en ’n ander opvoutafel flenters. Deur die newels hoor hy Annie benoud skree; weet hy moet opstaan voordat hy doodgeskop word – die bliksems met die lang hare en tatoes is almal skoppers. Toe Kat grondvat, is Tiger by hom, mik inderdaad ’n skop na sy ribbekas. Kat het dit sien kom en rol weg, hou aan rol tot agter ’n ander tafel in, spring dan op. Hy vee die bloed met die agterkant van sy hand uit sy linkeroog, maar dit help nie veel nie, die oog is klaar besig om toe te swel. Hy sal moet kophou, die man is nie net groot en fris gebou nie, hy is soos ’n bokser, vinnig en lig op sy voete. “Annie, gaan bungalow toe,” hyg Kat uitasem terwyl hy die man onderlangs dophou. Annie staan grootoog, haar hand voor haar mond. Sy weifel ’n oomblik en verdwyn dan vinnig die nag in. Tiger tel die stukkende stoel op en slinger dit na Kat om hom van balans te bring, storm agter die stoel in en swaai weer met ’n groot vuis na die speurder se kop. Hierdie keer is Kat gereed. Hy koes vir die stoel en blokkeer die swaaiende regter met sy linkervoorarm, slaan die groot man in die maag, eers met ’n regter
wat hy by sy knie gaan haal en dan met ’n kort linker. Tiger se asem bars by sy mond uit, en as sy middellyf knak, verpulp Kat se regter sy lippe. Die krag van die hou laat Tiger agteruit steier – nog ’n stoel plat. Kat probeer die bloed uit sy oë hou; loer onder sy ruie swart wenkbroue deur, hou die groot vent op die grond met ’n hygende borskas dop. Tiger kom stadig regop, verbasing op sy gesig. Hy het daardie hou gevoel, die poot kan hard slaan, maar in sy boek moes die poot hom nou gestorm en probeer doodskop het. Waar hy vandaan kom, is ’n man op die vloer ’n kandidaat vir die hospitaal, of vir die plek waar die langbome groei. Soos ’n bokser hou hy sy vuiste voor hom, sirkel nou versigtiger om die polisieman. Dit pla hom, die man is té seker van homself. Tiger beweeg vinnig in, tref met ’n reguit linker, volg dit op met ’n regter wat die bloed uit Kat se neus laat stroom; dan staan hulle en houe wissel. Dit is asof nie een wil retireer nie, nie een die ander se krag wil erken nie. Kat sien die twyfel onder die vreemdeling se stukkende oogbanke posvat. Sy eie arms en bene is ook besig om krag te verloor; ’n lamheid, soos ná ’n lang ent se hardloop, is besig om hom te oorval. Hy weet net dit is ’n geveg wat hy nie kan verloor nie. Ter wille van Annie. Hy mik nog ’n hou na Tiger, probeer hom op sy agtervoet terugdwing. Dan is die geveg verby. Tiger sak op sy knieë af, roggel en rol op sy rug om. Hy blaas hortend bloedborrels deur sy neus en lippe. Kat verstaan dit nie. Sy laaste paar houe het nie eens ordentlik getref nie. Hy vee die bloed uit sy oë en sien dan nog ’n beweging: Kris Freislich! Hy staan daar met sy harige wit maag wat oor ’n verbleikte oefenbroek se rek hang; steeds met die waterskoene aan. In sy hand ’n stuk brandhout. “Ek was al in die bed toe die dametjie my kom roep. Gesê jy is in die moeilikheid,” sê hy. “Ek bring toe maar ’n equaliser saam, net vir in case.” Hy hou die stuk hout in die lug, trek die slaapbroek se sitvlak uit sy agterent en bekyk Kat se stukkende gesig. “Ek sou lankal hier gewees het. Moes eers my een gumboot in die donker soek. Is jy oukei?” “Ek’s reg, oom Kris, dankie.” “Jy lyk maar lekker kak, ou pel. Sal jy by die bungalow kom?” “Ja, ek’s oukei.”
Tiger kreun en sit regop, hou sy kop vas. “What the hell hit me?” “Wat maak ons met die gorilla?” vra Kris en lig die stuk hout. “Moet ek hom weer foeter?” Tiger wys met sy hand hy het genoeg gehad, kom koponderstebo tot op sy een knie, druk een hand voor sy bloeiende neus. Kat voel ’n ligte aanraking aan sy arm. Annie! “Kyk hoe lyk jou gesig, jy sal moet steke kry,” sê sy. Kat probeer dapper glimlag. “Jy moet die ander ou sien,” wurg hy die woorde dapper uit. “Dankie, oom Kris,” sê Annie, “ek … ek het nie geweet wie anders om te roep nie.” “Nee wat, daai was sommer niks, ou niggie. Soos ons in die myne sê: Jy slaat ’n moegoe met ’n harde kop nie met die vuis nie; kyk hoe lyk Kattie se vuiste geslaan.” Kris hou die stuk hout in die lug. “Jy gebruik ’n wedge.” Hy draai om en stap vooruit by die deur uit. “Wag, laat ek gaan slaap.” “Oom Kris,” roep Kat agterna, “wat’s ’n wedge?” In die paadjie voor die lapa tel Kris Tiger se Glock in ’n poel water op, gee dit vir Kat. “Dis ’n stuk hout wat soos ’n wedge lyk. Ons gebruik dit in die myn om matpakke vas te sit sodat die tafel nie op jou kop val nie.” Annie kyk met ’n frons na Kat. “Weet jy waarvan hy praat?” vra sy. “Nie ’n clue nie. Kom ons loop, ek is honger en wil gaan vleis braai.” Kat haal die Glock se magasyn uit en gooi die pistool op die tafel waaraan Tiger nou hang en steek die magasyn in sy sak. “Kat, jy moet steke kry in daardie oogbank. Ek twyfel ook of jy met daardie stukkende mond sal kan vleis eet. Ek sal vir jou sop maak, én broodjies.” Ag, hel … sop en broodjies! Hy baklei sy bleddie longe uit vir haar, word amper doodgedonner deur ’n gorilla met lang hare, en al wat sy doen, is om hom te probeer voer met kos vir ’n kind wie se mangels uitgehaal is. Sop en broodjies!
Nie ’n drukkie of ’n dankie of ’n vlieg in jou moer in nie. Hy moet darem toegee dat die manier waarop sy hom met haar arm om sy lyf ondersteun op pad bungalow toe erg aangenaam is. “Dit is in elk geval nie gesond vir jou om saans ’n klomp vleis te eet nie,” kloek Annie voort. “Dit verteer nie goed nie; laat jou sleg slaap.” Al weer dókter Annie de Villiers! “Nie as ek die vleis in klein stukkies sny nie,” mompel Kat en loop nog nader aan haar. Geleende pale en houttelefone nou weer heeltemal vergete. Terwyl Kat en Annie met die geplaveide paadjie tussen die bome en bosse deur aansukkel, kom daar van die rivier die geluid van ’n reuse-borrel wat deur die watervlak bars. Nie een van hulle hoor dit nie. Terwyl hulle aangestryk het, het daar iets in die troebel dieptes van die rivier begin roer. ’n Lang, blekerige vlek het losgekom van die windsels van ’n blou nylontou, haak-haak gestyg deur die takke van ’n oewerboom wat lank gelede deur ’n vloed in een van die rivier se diep gate gegooi is. Die wit gestalte het watergras, plastieksakke en stukke tou saamgesleep; ’n ruk vasgesit aan stukke geroeste doringdraad wat soos spinnerakke tussen die boom se takke koek. Terwyl Kat en Annie deur die donker vakansieoord aansukkel, ontsnap ’n borrel gas uit ’n grynsende, liplose mond, skiet deur die donker water na bo en bars langs die riete soos ’n ballon in ’n kind se hand.
29
Kris wonder of ou Cassie weet van die gat in daardie groen onderbroek van hom; nie voor nie, maar presies daar waar die briekmerke sit. Gelukkig vir Cassie kyk niemand in die gehoor na sy bleekwit, harige boepens en dun beentjies met die knopknieë nie. Hy maak net ’n gat van homself! Wat weet ’n klerk wat by die pay-office werk nou van paaldans af? Die ou dingetjie daar saam met hom op die verhoog is ’n ander saak. Die wit deurtrekkertjie wat sy aanhet, het nie gate nie, want daar is nie genoeg materiaal vir ’n gat nie! Zenobia, die een met die groot borste, sy wat ou Lappies spesiaal in Welkom loop haal het vir die hengelklub se jaarvergadering. Stien moet net nie hiervan hoor nie … Maar intussen sal hy dit geniet; met sy knertsie teruglê in sy stoel en hom verlustig aan haar jong slanke lyf wat so om die paal kan knoop. As die bleddie Cassie net nie alewig voor hom wil inneuk nie! “Cassie man, demmit!” “Haai, Pa!” Kris val byna uit die seilstoel waar hy op die sandbank agter sy visstokke sit en droom het. Hy druk die verbleikte oranje Cheetah-keps se sonskerm met sy duim terug oor sy voorkop, loer met skrefiesoë na die skadu wat tussen hom en die skerp oggendson inbeweeg het. “Wat lê Pa so met toe oë en praat? En hoekom smile Pa so … so weird?” “Fok, Baby, jy moet my nie so laat skrik nie, demmit! Wat soek jy hier? Jy weet ek wil nie gepla word as ek visvang nie.” Baby beduie na ’n jong man langs haar wat in ’n rooi spoggie en rooi T-hemp met die woord “lifeguard” op die bors staan en glimlag. “Dis Clinton, Pa. Van Natal af. Hy … hy is Engels.” Die lifeguard steek sy hand uit: “Please to meet you, Sir.” Kris sit die Black Label-blik op die kano wat langs hom op die sand lê neer en sukkel regop. Die jong man se hare is nog witter gebleik deur die son en hy het die kenmerkende breë skouers en smal heupe van ’n swemmer. Kris skud sy
hand. “Hello! Yes, man, please to meet you too.” Als aan die jong man is groot, behalwe die spoggie wat te klein lyk om alles bymekaar te hou wat dit veronderstel is om bymekaar te hou. Maar, nou ja, in Kris se dae het hulle ook alles so op tien oor twaalf gesit om die meisies te beïndruk, daar om die swembad in Virginia. Dit is hoe hy vir Stien ontmoet het. “Pa! Pa staar!” Baby se verontwaardiging ruk Kris terug na die hede. Sy het so ’n kort wit strandjurk met lang toiings oor haar bikini aan – nie ter wille van dié Adonis nie, maar ter wille van hom, daarvan is Kris seker. Miskien begin al die jare se baklei met haar nou vrugte afwerp. Baby weet goed wat haar pa dink en hou hom met ’n glimlag dop. Wag maar tot sy en Clint eers in hulle eie stukkie paradys dáár onder die wilgeboom se takke is, dan sal … Met ’n “oh, sorry, man!” skrik Kris wakker. “Eh … now if you is standing here who is standing guard at the swimming bath?” vra hy half verleë, want hy hét gestaar, en dit na ’n ander man se bleddie gereedskap! “Maintenance, Sir. The bath is closed for the day.” Clinton beduie na die visstokke. “How’s the fishing?” Kris hou sommer dadelik van die jong man – hy vra die regte vrae, al is dit in Engels. “Ag, man, it’s a bit quieterig this morning. After the rain there is too much goggas en ander foodstuffs in the river.” Baby, wat haar altyd bloedrooi skaam vir haar pa se Mynengels, pak die bul by die horings en rammel haar versoek vinnig af: “Pa, Clinton vra of ek saam met hom kan gaan roei op die rivier, met die kano.” As dit wil-wil lyk of Kris nee gaan sê, voeg sy haastig by: “Pa hoef nie te worrie nie, hy’s ’n kampioen, Pa.” Met wat Kris van die man gesien het, moet hy ’n bleddie kampioen wees. Dis die bleddie probleem! “Hy roei altyd die Dousie en sulke klas van goed. Én ons sal baie versigtig wees, Pa,” voeg sy vinnig by. Hy hoop verdomp so!
“Én hy is ’n lifeguard, asseblief, Pa,” hou sy aan pleit. Boeries het in ’n stadium die Duzi gaan roei. Sal dit nou dieselfde wees as die Dousie? Is daar nie so ’n sanger ook nie? “Wat sê jou ma?” probeer Kris die bal aangee; die spoggie se inhoud pla hom steeds. “Ma sê dis oukei met haar, maar ek moet vir Pa ook vra.” Baby weet al hoe om dié spel te speel. “En wat van lifejackets? As die kano omneuk dan versuip julle, lifeguard of te bleddie not. Ek kan sien aan die vislyne dat hierdie gat baie diep is, en –” “There are lifejackets in the kayak, Sir, and I will be very careful.” “Watter kaia?” vra Kris agterdogtig. “Julle bly uit die bleddie kaias uit!” “The kayak … the canoe, Sir.” Kris wonder of hy so “careful” sou gewees het as hy vir Stien in hulle jongdae alleen in ’n kano op ’n rivier gehad het. Aan die ander kant, hier is vir Baby niks om te doen in die kamp nie. Hier is nie baie jong mense nie, en dit ís darem haar laaste jaar saam met hulle; behalwe as sy natuurlik volgende jaar in Koekie de Jager se boutique in Merriespruit gaan werk. Die Clinton-ventjie lyk nogal heel ordentlik, dis nou vir ’n Engelsman. Dis net daai spoggie wat ’n bietjie aan die klein kant is … “Pa?” Kris beduie na die ou roeiboot wat eenkant op die sand lê. “Is daai ding nie veiliger nie?” “Pa-a!” Baby kan nie glo dat haar pa so onnosel kan wees nie. Miskien is die kano tog veiliger, dink Kris dan. Hulle sal ten minste moet stil sit of swem. “Ja, oukei,” sê hy half teësinnig. “Maar julle roei net waar ek julle kan sien, hoor!” “Pa-a! Clint moet oefen vir die Dousie! Ons kan nie al in die rondte roei soos ’n gogga met een poot wat aan die vloer vasgemaak is nie.”
O, dit is nou al “Clint”! Kris krap sy maag. “Oukei,” sê hy traag, “maar nie vir lank nie, hoor.” Ai, om die pa van so ’n mooi dogter te wees is nie maklik nie. Én dan het sy nog haar ma se streke ook!
Die kanovaart was met een woord awesome! Baby het agter gesit; Clint het gesê sy hoef nie te help roei nie, hy het die oefening nodig. Net stil sit, anders swem hulle dalk regtig. Die bome en bosse, die sandbanke met riete en biesies het verbygevlieg, terwyl bleshoenders, eende, slanghalsvoëls en selfs ’n paar kolganse kort-kort voor die suisende kano se neus moes wegskarrel. Swerms veeryers het plek-plek soos wit kapok op die donkergroen bome gesit en opgevlieg as die kajak verbysnel. Clint het die rooi T-hemp uitgetrek toe hy die reddingsbaadjie op die sandbank aangetrek het, en sy het haar verkyk aan die rimpelende spiere van sy skouers en boarms. Sy wou ook van haar strandjurk ontslae raak, maar haar pa het net ’n slag sy keel hard geskraap en ’n blerts in die rivier gespoeg; haar die oog gegee. Waar die rivier witwater oor die rotse maak, moes hulle omdraai, heeltemal te gou. Clint se nek en skouers was blink gesweet; sy kon die hitte van sy lyf voel en soms was sy lus en steek haar hand uit en vat aan hom. As Boeries by die huis so gesweet rondloop nadat hy geoefen het, ruik hy vir haar soos ’n natgereënde hond, maar Clint ruik heel, heel anders. Dit ruik so, so … sy weet nie. Manlik miskien? Dit doen beslis iets aan haar; dit het byna dieselfde effek as daardie kristalle in daai sakkie. Maar nou is hy hier by haar, en haar gesig word warm; af, af sprei die hitte, af in haar lyf in af tot in haar tone; sy voel hoe sy heeltemal lam word. Baby druk haar bene teen mekaar, bang Clint kyk om en sien haar bewende kniekoppe. Sy sit gespanne en kyk hoe die laaste draai in die rivier vóór Lekker Rus baie vinnig nader kom. Dis nou of nooit! Sy tik Clint op die skouer en beduie hy moet roei na ’n groot ou treurwilger met takke wat wyd oor die water hang. Haar pa sê altyd as die son skyn, moet jy hooi maak, en die son skyn nóú op haar en sy is lus vir hooi maak. Sy sal dalk nie weer só ’n kans kry nie, een van die dae gaan hulle weer Virginia toe. ’n Paar diep hale met die roeispaan laat die kano se neus wal toe draai en na ’n rukkie gly dit onder die gordyn van laaghangende takke in. Dit is nie naastenby so mooi hier as wat Baby gedink het nie, daar is nie eens een wit of pienk blom
nie, net ’n dik tapyt dooie takke en blare en ’n ou buiteband wat die een of ander tyd daar ingespoel het. Die helder waterstroom wat sy verwag het, is ook maar net dieselfde ou besoedelde rivier met ’n plaat waterhiasinte wat vasgedryf het teen die boom se skurwe stam. In die boom se klapperhaarwortels krioel klein krappies grillerig; orals is daar ’n geskarrel en ’n geritsel. “Do you want to get out?’ Clinton klink bra skepties. “There’s nothing here but the crabs, and the bank is very steep.” “Nee dankie!” As die tuin van Eden só gelyk het, is dit g’n wonder die inwoners het die pad gevat nie. Baby haal die plastiekbakkie met die kristalle, die vuurhoutjies en die gloeilamp onder haar sitplek uit en gee dit vir Clinton aan. “Kom ons snuif dit,” sê sy met haar soetste stemmetjie, “ek het dit nou nodig.” Hy haal ’n plastieksakkie uit die bakkie. “Are you sure?” Sy knik en hy gooi van die kristalle in die gloeilamp se stulp. Met ’n vuurhoutjie steek hy ’n stukkie kers aan en hou dit onder die dun glas. Baby ruik dadelik weer die chemiese reuk van die wit dampe; dit maak haar opgewonde. Hulle paradys lyk miskien nie soos sy haar dit voorgestel het nie, maar sy weet waarheen die wit kristalle haar kan vat. Sy gee ’n paar diep snuiwe aan die dampe, knyp haar neusbrug met twee vingers vas en gee die dampende stulp aan Clinton terug. “No, thank you, but enjoy it.” Baby voel die energie in haar opbruis. Sy kan aan niks anders dink nie as Clinton se natgeswete, gespierde lyf; vat nog ’n paar snuiwe, knyp haar oë styf toe en gee haar oor aan die gevoel dat sy liggies sweef. Sy neurie sag en gee die stulp terug, trek die veiligheidsbaadjie oor haar kop en begin die bandjies van haar strandjurk lostrek. Gloep! ’n Groot lugborrel bars reg langs die kano deur die watervlak. Sies! Baby se oë vlieg oop, dit stink! Sy sit haar hand voor haar mond en neus, soek om die kano rond, maar die water is nou stil. Dan bars nog ’n borrel vlak langs haar.
“Clint, let’s get out of here, please!” Of dit tik-hallusinasies is, weet sy nie, maar hier is iets verkeerd. Hulle beter wegkom onder die boom se takke uit. “Wait!” sê Clinton. “There’s something down there; it’s coming up.” Baby staar na waar die borrel pas gebars het. Die water raak stadig ligter, asof ’n groot wit vis die oppervlak nader. Salmaklak, dink sy, die monster van die Vaalrivier! Sy gryp Clinton se skouers vas. “Let’s go, Clint! Asseblief, ek is bang!” Haar hart klop in haar keel, haar asem ruk deur haar droë mond. “Okay, Baby, but be careful! You’re going to tip the kayak.” Net toe Clinton die roeispaan in die water druk, breek die haarlose, gerimpelde wit kop met die leë oogkasse langs Baby uit die water. Sy staar ’n oomblik verstar na die grynsende tande, en toe die grotesk opgeblase lyf omkantel en ’n hand met ’n enkele oorblywende vinger na haar opreik, gil sy en sy gil en gil … Haar stem skram van die rotsriwwe weg, word teruggekaats na die rivier, en word galmend weggeslinger tot in die koepel se diepste en verste klowe.
30
“Die koka-plant, Erythroxylum coca, kom veral baie wydverspreid in die Andesgebied van Suid-Amerika voor, en duisende jare gelede het die inheemse bevolking die blare van die plant gekou om hulle krag en energie te gee. Dit was eers toe die Westerse wêreld dit ontdek het dat die misbruik daarvan begin het.” Aan die woord is weer die kort mannetjie met die kaalkop en die halfmaanbrilletjie. Op die projektorskerm is ’n foto van ’n hand met ’n klomp blare wat vir Kat baie soos dié van ’n witstinkhout lyk, niks indrukwekkends nie. “… oorblyfsels en tekeninge van hierdie blare is in die grafkelders van Peruaanse mummies gevind, asook op potskerwe van daardie tyd …” Kat se aandag begin weer dwaal. Hy stel nie in die geskiedenis van kokaïen belang nie; hy wil net weet wat dit is en waar hy die werfetters wat die goed maak en versprei, kan opspoor. Annie sit wel aandagtig by ’n tafel langs die kateder en luister na die professor, maak selfs nou en dan ’n aantekening. Kat wil sy snor ’n paar vrywe gee, maar sy lippe is te gehawend. Die langhaar het ook ’n paar van sy voortande los gemoer. Die einste Annie het gesê daar is niks daaraan te doen nie, met tyd sal die tande weer vasgroei. Dit het sy hom vertel terwyl sy steke in sy oop oogbank gesit het. Sy wou dat hy die snor afskeer sodat sy steke in sy lip ook kon sit, maar daar is net soveel wat ’n man vir ’n mooi vrou sal doen en niks meer nie. “Net die een kant, nie alles nie,” het sy laggend gesê. Vroumense! Sal sy net aan een oog vals wimpers sit? Nie dat sy sulke goed nodig het nie. Met die steke-insittery was hulle gesigte naby mekaar en hy kon haar mooi bekyk. Sy dra nie sulke goed nie, dis nie nodig nie. “… kokablare word moeilik vervoer, daarom verwerk die dwelmbase van veral Colombia eers die blare tot ’n soort pasta voordat dit uitgesmokkel word na ander lande waar dit dan weer verder verfyn word tot die bekender wit poeier wat dan op die strate beland, en …”
Nadat Annie met hom klaar was, is sy terug na haar bungalow; hy het die vuur aangesteek. Hy het die stoep se lig afgesit, ’n brandewyn ingegooi en buite by die braaier gaan sit en luister na die nag se geluide. Iewers ver, vanuit die boonste kamp, is Koos Kombuis se “Lisa se klavier” sag deur die aandlug aangedra; sy spiere het begin ontspan ná die geveg in die lapa. Dit was ook nie lank nie of die kole het rooi gegloei, die vet van die twee steaks het sissend begin drup en die rokie het luierig in die stil lug opgekrul. Hy was vrek honger, maar Annie was reg, die vleis sou hy nie kon eet nie, nie eens as hy dit in klein stukkies sny nie. In haar bungalow het hy die stort hoor raas, die water en seep buite by die afvoerpyp sien uitloop. In sy gedagtes het hy die paadjie van daardie seepwater teruggevolg tot by die oorsprong. Annie het later, toe die T-bene byna gaar was, in haar kamerjas uitgekom na sy donker stoep toe. Sy het ’n beker sop en ’n paar repies witbrood sonder korsies, en nog ander eetgerei, op die draadtafel neergesit en styf teen hom kom staan waar hy op die seilstoel gesit het. Sy het sy kop teen haar lyf vasgedruk en die sagte materiaal van haar kamerjas was koel teen sy gekneusde gesig; hy kon die seep aan haar lyf ruik. Nie een het iets gesê nie, net die oomblik se intimiteit geniet, daar in die stilte van die kamp en met die naggeluide wat van die rivier se kant af gehoor kon word. Dit is haar manier van dankie sê, het hy geweet. Hy wou opstaan, sy arms om haar sit, maar was te bang dit sou die oomblik bederf. Bang ook dat sy sy lyf se reaksie op haar nabyheid sou raaksien – dit was net sy mond wat seer was! Ná ’n ruk het sy hom regop getrek en ’n sagte soen op sy stukkende mond gedruk. Dit het gevoel of die talmende aanraking hul droë lippe aan mekaar wou laat vassit; hý wou in elk geval nie dat dit loskom nie, die sagte aanraking moes vir altyd aanhou. “Dankie, Kat,” het sy gefluister, “’n meisie voel veilig by jou.” “… C17H21NO4 is die chemiese formule van die wit poeier, maar dit is meer bekend as coke, snow, nose dandy, white lady, toot, of nog vele meer benamings. Afhangende van waar die gebruiker hom bevind, sal …” Annie het hom teen haar vasgetrek en deur sy hemp kon hy die stywe rondings van haar borste teen sy vel voel. Hy het sy arms om haar gesit en sy hande teen haar rug laat afgly. Haar mond was teen sy halwe oor, haar asem warm in sy nek, haar tongpunt al met die winkelhaaklitteken langs. “Jy kon dood gewees het,” het sy gefluister toe hy die knope van haar japon begin oopknoop. Toe sy hand met die tweede knoop doenig was, het sy weer gefluister: “Jy is te flenters vir sulke dinge, Kat … en die vleis brand.” Met ’n glimlag het sy haar losgewriemel
uit sy omhelsing, vir haar die grootste T-been in ’n bord geskep en by die tafel gaan sit. Hy het gesien hoe sy haar mes deur die filet trek en die pienk vleis oopval, die soigheidjies ’n dammetjie maak op die bord. Die gesuis in sy kop het stadig bedaar en sy mond het begin water. “Toe, eet jou sop en broodjies, dit kan net goed wees vir jou. Veral vir die adrenalien van die bakleiery,” het Annie gesê en ’n heerlike happie vleis in haar mond gesit. Vroumense! Die sop het uit ’n pakkie gekom, niks meer as gegeurde water nie, en die sout het sy stukkende lippe gebrand. Die broodrepies het net margarien op gehad en na niks gesmaak nie. In daardie stadium was dit Arina de Witt se “Op asem van engele” wat uit een van die boonste bungalows gehoor kon word, en daar op die donker stoep met net die maan wat vir hulle deur die wit wolke geloer het, het hy hom verbeel hulle sit iewers in ’n romantiese restourant met kerse. As sy net nie so vol stront was nie. Kat laat sy oë oor die saal dwaal. Dit is gelukkig die laaste sessie van die kursus; ná ’n week van lesings is die mense moeg, niemand luister eintlik meer nie. Vanaand gee die bestuur van die Lekker Rus-oord, saam met die SAPD, ’n afskeidsgeselligheid vir die spul Amerikaners. Mkhize en Pine is ook genooi. En môre is hy by die huis – by Piet Vermaak, sy lewensmaat, die enigste liefde in sy lewe. Die papegaai het ten minste nie ’n probleem met sy snor nie; hy gryp ook nie die grootste T-been en voer hom sop en bleddie broodjies nie! Maak hom ook nie lus en los hom dan om te suffer nie. Maar dan voel Kat weer Annie se tong se wriemel in sy oor en oor die litteken … Hel! Hy weet darem nie so mooi van Piet Vermaak nie, ’n voël kan nie daai klas van dinge doen nie. Hy voel kwaai vir Piet met sy groot raasbek en sy gevloek, maar die swartkop het iets aan hom gedoen wat hy nie so mooi van weet nie. Sy het ’n anderste gevoel in hom laat opstaan wat hy nie kan definieer nie, dis soos ’n diep pyn sonder ’n wond, ’n diep verlange sonder iets om rêrig na te verlang. Met Danelle was dit anders, meer ’n fisieke ding – ’n huwelik wat in die bed begin het. Ook daar geëindig het. Hulle kon eers nie vinnig genoeg in die bed kom nie, en daarna weer nie vinnig genoeg uit nie. Dit is net jammer dat Rohan, wat uit daardie ie gebore is, nou die spit moet afbyt. Kat draai sy kop na sy kamermaat, Dick Delport, wat besig is om ’n skets van ’n vis te sit en krabbel op die omslag van ’n geborgde konferensielêer. Dick het
vanoggend weer by hulle aangesluit nadat die soektog na die hengelaar niks opgelewer het nie. Die polisieduikers se soektog was ook vrugteloos; die gat water onderkant die stroomversnellings is baie diep en vol allerhande gemors. In die glasdeur verskyn kaptein Piet Modise, die effens gesette polisieman van die Buffelshoekkantoor. Hy kyk in die saal rond, en as hy vir Dick sien, kom hy tussen die tafels deur gestap, buk by die speurder en fluister. Dick knik, staan op, beduie vir Kat om saam te kom en volg die konstabel na buite. In die sonlig beduie Dick met sy kop na ’n polisievoertuig. “Hulle,” sê hy en begin dadelik ’n sigaret opsteek, “het nog ’n lyk gekry, by die kamp. Gedink jy sal die afleiding verwelkom, veral met daai flenters bek van jou. Nog nie kans gehad om te vra nie: Ek aanvaar jy het in die donker in ’n kasdeur met spykers vasgeloop?” Kat knik. “Ja, hoe het jy geweet? Dankie vir die afleiding ook.” “Kom ons ry sommer saam in die wên met die siffies,” sê Modise. Kat is ’n groot man en kaptein Piet is een van daardie polisiemanne wat die minister graag meer in die gimnasium sal wil sien. Gelukkig is Dick ’n maergat, anders het hulle nie die bakkie se deure toe gekry nie. “Wie’s die kadawer?” vra Kat. Blou sigaretrook warrel by die venster uit en die stof streep rooi op die grondpad agter die bakkie aan. “Hulle dink dit is een van daardie boormanne,” sê Piet. “Ons het baie gesoek na dié twee mannetjies, maar dit is moeilik om te sê sonder ’n outopsie. Die lyk was lank in die water.”
31
Suikerbos ek wil jou hê … wat sal jou mamma daarvan sê …? Die laaste toespraak is gelewer; die laaste wedersydse bemoedigings vir die stryd wat voorlê, al die dankies is gespreek, vir die groot opofferinge deur so baie vir die ganse duur van die konferensie, vir die Krugerfamilie se voortreflike voorbereiding en instandhouding van die kamp en ook vir die groot moeite wat soveel hoë offisiere gedoen het om dié belangrike konferensie saam met die manne op grondvlak te kom afsluit, met spesiale verwysing na generaals Mkhize en Mboweni (van die Noordwesstreek). Die spesiaal vermelde hoës en hul gades het ook al gaan slaap, die kos is lankal opgeëet en die skottelgoed gewas – dis nog net die KWV en die Castle en die cabernet sauvignon wat nie klaar is nie. Die manne van die Amerikaanse DEA en die Suid-Afrikaanse Polisiediens staan nou saam in ’n kring om die klavier: … dan loop ons so onderdeur die maan … ek en my suikerbossie saam … weergalm dit deur die kamp. Die Amerikaners sukkel met die woorde en die uitspraak, verstaan ook nie mooi waaroor dit gaan nie, maar hulle sing saam, want dis ’n “damn good song” – veral so laat in die aand en met ’n glas KWV in die hand. Voor die klavier sit Annie, haar swart hare en die boonste knoop van haar wit bloes is los en haar hande vlieg oor die klawers. Op die klavier staan ’n glas cabernet waarna sy so tussen die versies reik. Conroy Bosman het sy donkergroen Freelander in die onderste kamp geparkeer, langs die rondawel naaste aan die sandbank waar Clinton se kano en die roeiboot lê. Die lig uit die rondawel se oop deur maak ’n streep oor die effense stoep, al met die trap af, verby die vier-by-vier tot by die sandbank. In die rondawel sit Conroy Bosman en Tiger Denton by ’n blou ite-tafel, ’n bottel en twee glase tussen hulle. “Ons is klaar by die boorkamp,” sê Tiger. Sy arms rus op die tafel en hy staar afgetrokke in die whiskey in die glas, luister na die geklingel van die ysblokkies as hy die glas ’n slag in die rondte swaai. Sy kop is seer, die poot met die swart snor het hom hard geslaan en sy opgeswelde gesig se pers en blou begin nou ’n mengsel van groen en geel word. Wat hy egter steeds nie kan kleinkry nie, is die
moerse knop aan sy agterkop, hy het daardie hou nooit sien kom nie. ’n Man onthou nou wel nie al die houe in ’n geveg nie, net dié wat seer maak én natuurlik die een wat jou ligte fuse. “Hoe lyk dit daar?” Tiger kyk effens verward op. “Waar?” Conroy klap vererg ’n bruin besie uit sy hare. “Fok, Tiger, by die boorsite, natuurlik! Lyk my daardie poot het jou kop maak raas ook. Jy sê julle is klaar …” Iets in die ligstreep wat tot op die rivier se vlak water val, trek Tiger se aandag en hy kyk stip oor Conroy se skouer. Hy kom half regop; Conroy kyk ook om. Tiger gaan egter byna onmiddellik weer sit en sug, daardie klip was tien teen een altyd daar. “Ja, wel,” sê hy en ignoreer Conroy se vraende blik, “dit lyk nou nie juis soos dit was voor ons daar ingetrek het nie, maar ons het darem getraai. Dit sal ’n ruk vat vir die goed om te groei, maar die ergste erosieslote is darem toegegooi.” Tiger maak hulle glase weer vol terwyl nog ’n versie van “Suikerbossie” by die oop deur ingedra word. Hy knik in die lapa se rigting. “Om te dink van daardie sterk manne is lede van die Drug Enforcement Agency, America’s best, en ons sit hier onder hulle neuse met genoeg tik en coke om ’n Chinese flopshop vir ’n jaar te supply.” “Ja-uh, dit was die mooi van hierdie plek gewees – niemand het ooit iets vermoed nie. Almal was so die moer in vir ons oor die omgewing dat niemand verder gekyk het nie. Die perfekte drop zone.” Tiger wys met die bottel in die rigting van twee netjiese bokse voor sy onopgemaakte bed. “Daai was die laaste vrag wat kon inkom na die boorsite toe; die laaste mense is vandag weg.” “Ja, ek weet.” Conroy sug en vat ’n sluk. “Dis jammer, daai was ideaal, dead centre in die middel van die verspreidingsgebied.” Hy plak die glas ergerlik neer en van die whiskey spat oor sy hand. “As dit net nie was vir daardie donnerse twee boormanne van jou se verdwyning nie, dan het die klomp dowwe koepelpote nou nog nie van ons geweet nie.”
“Demmit, Baas! Dit was nie mý boormanne nie! Jý het die twee moegoes aangestel.” Tiger steek ’n sigaret op, sit terug in die stoel en blaas die rook na die dak toe. “Ons weet nou in any case hulle het versuip. Koos het vanoggend opgekom vir asem.” “Ja, ek het gehoor. Die bliksemse boomroker.” “Nou wat van die chopper?” “Ek het ’n plek gekry by Parys. Nie so ideaal soos hier nie, maar ek sal ’n plan maak. Daar is gelukkig baie eilande by die dorp.” Tiger staan op en die ite-stoel se staalpote skraap oor die sementvloer. Hy maak sy glas leeg; stap deur toe. “Waar gaan jy nou?” “Pis.” “Hier is mos ’n toilet in die plek.” “My kop is seer; ek soek vars lug ook,” brom Tiger en stap op die stoep uit. Hy skiet die halfgerookte sigaret die nag in en loop styf-styf tussen die blinkblaarwag-’n-bietjies en die doringbosse langs die rondawel deur. Terwyl hy sy gulp ooprits, soek hy na die klip wat hy ’n rukkie terug in die water gesien het. Daar is nou net die rimpelings op die watervlak in die streep lig. Het hy hom dan verbeel? Wel, met half toegeswelde oë kan ’n mens ook nie seker wees nie. Bye bye Miss American Pie … kom dit nou uit die lapa se rigting. Nou nie soos Don McLean dit in gedagte gehad het nie, maar met heelwat entoesiasme. Drove my Chevy to the levee, but the levee was dry … Tiger fluit sag deur sy tande saam en trek sy gulp toe. Them good ol’ boys were drinking whiskey and rye …
“Tiger!” Conroy se stem word weggepluk deur ’n sterk wind wat asof van nêrens gekom en orals in die oord deure laat klap. Die bome in die kamp buig en ruk; blare en los grassnysels word rivier toe gejaag. Ook die wolke wat laatmiddag Potchefstroom se kant toe op die horison gelê en flits het, is besig om voor die wind te wyk.
“Tiger!” roep Conroy weer, sy hande bak voor sy mond. Bye bye Miss American Pie … Conroy stap teen die trap af, trek sy windbaadjie se ritssluiter op, draai sy rug na die wind en stap om die rondawel na die rosyntjiebos tussen die bome waar Tiger gewoonlik sy besigheid doen. Waar dié bliksem grootgeword het, weet nugter alleen, oënskynlik haat hy ’n toilet. “Tiger! Waar die hel is jy?” Die wind ruk die woorde weer uit Conroy se mond en vat dit saam oor die rivier. Hy sien nie die laaghangende doringtak nie en kry ’n geniepsige krap in die gesig. Hy swets teen die wind in en hardloop dan terug na die Freelander, haal ’n flits en ’n .38 uit die paneelkissie, skakel die flits aan en loop weer versigtig terug na die rosyntjiebos, dié keer bedag op die takke. “Tiger! Tiger! Demmit, antwoord my!” Nét die gesuis van die wind en flardes partytjiemusiek … Conroy swaai die flits rond, laat die .38 die ligkol volg. Agter die rosyntjiebos is ’n swartstambloekom, die lig spring-spring teen die stam op. Dan op ’n geroeste ketting wat van een van die onderste takke hang. Conroy kom stadig nader. Die ketting is jare gelede met bloudraad hier vasgemaak, aan die punt is ’n haak wat uit ’n stuk ysterpaal gebuig is. Conroy hou die flitslig op die haak. Ril. Hy moet tussen hierdie verdomde bosse uitkom, vir wat sal hy hom nou so oor Tiger bekommer, die man kan vir homself sorg. Conroy stap haastig terug rondawel toe. Toe hy sy voet op die onderste trappie sit, vries hy in sy spore. Hy kyk geamuseerd om hom rond … die wind het gaan lê. Die gesing is ook nou weer duidelik hoorbaar: This’ll be the day that I die, this will be the day that I die …
32
“Het jy enige iets opgetel oor die verdwynings in die koepel?” Kat skud sy kop. “Nee. Ek het ook nie juis tyd gehad vir rondkyk nie, die kursus was uitputtend genoeg.” Hy sitlê in ’n stoel in Pine se kantoor in die Valke se gebou in Johannesburg, kyk verveeld deur die venster hoe die vliegtuie van O.R. Tambo-lughawe wit strepe in die helderblou lug maak. Die steke is uit sy oogbank en sy bolip het goed genoeg herstel dat hy darem weer vanoggend sy “move” vir die tiksters in die poel kon gooi – net effens, natuurlik, maar darem. Jy is te flenters vir sulke dinge, Kat … Hel! Hy sal seker nooit weet wat sou gebeur het as hy nie so flenters gefoeter was nie – dan sou die episodetjie met Annie dalk nie eers gebeur het nie, maar hoe sal hy nou weet? Dit smaak vir hom dat ’n man met haar ’n gorilla en ’n klavier nodig het as jy enigsins hond haaraf wil maak. Moer die gorilla en sing vir haar terwyl sy klavier speel. Sy het die aand ná die afskeidspaartie darem vir hom ’n pasella drukkie gegee voordat sy in haar bungalow verdwyn het. Hy was seker nog te flenters vir iets anders. Miskien was dit maar net die cabernet wat haar ys so effens laat smelt het. Wie weet? Pine sit Kat met ’n glimlag en beskou; tik met die pypsteel teen sy voortande. Sy ou pel het anders van die koepel teruggekom, stiller, meer ingedagte, dromeriger. “Was die ysberg baie lelik met jou daar in die nare bos langs die rivier?” vra hy ná ’n ruk. Toe hy nie antwoord kry nie, probeer hy weer: “Is jy seker dis nie sy wat jou so gemoer het toe jy haar met ’n geleende telefoonpaal oor ’n stukkende houttelefoon probeer bykom het nie? Om jou gevleuelde woorde aan te haal.” Kat sê steeds g’n woord nie, kou net aan een van Pine se gebruikte vuurhoutjies. “Kat, demmit, ek praat met jou!” Die groot speurder kom stadig regop in die stoel, gooi die gekoude vuurhoutjie in die snippermandjie en suig lug deur sy kiestande in. “Ek luister nie na jou as jy stront praat nie.”
“Mkhize wil hê jy moet terug koepel toe.” “Vir wat? Is daar weer ’n konferensie?” Pine staan op, skink water uit ’n kraffie in ’n glas en stap na waar ’n varing met krulblare in ’n pot op ’n klein tafeltjie voor die venster staan. Hy gooi die helfte van die glas se inhoud in die plant se pot uit, vat ’n skêr wat op die vensterbank lê en knip ’n blaar wat effens geel verkleur het tussen die groen uit. “Wat de hel doen jy nou? Dis ’n poliesstasie hierdie, nie ’n flippen kwekery nie!” “Dis Ann se idee. Sy sien dit op die kassie se CSI-stories. Dis glo goed vir polisiemanne se stresvlakke.” “Nee, fok, dis te erg!” Kat skud sy kop geskok. “Julle kyk te veel bleddie televisie. Vry julle nie meer nie? Dit raak tyd dat julle weer ’n kleintjie kry.” “Wie sê vir jou daar is nie al een op pad nie?” Pine glimlag geheimsinnig van die venster af. “O my hel! Is dit wragtag al weer sulke tyd?” “Nee, man! Dis nog net ’n ‘miskien’.” “Hallo, cowboy! Of moet ek eerder sê: Hallo, direkteur Konyn?” “Dis brigadier.” “Whatever.” Kat vryf sy snor ’n paar keer saggies; vervolg dan effens bedees: “Wat is dit nou weer met Silkaats en die koepel?” Pine kom teruggestap, gooi die dooie varingblaar in die snippermandjie en die res van die water in sy keel af voordat hy gaan sit. Hy verskuif Ann en Tiaan se foto agter die waterkraffie uit. “Generaal Mboweni, daardie streek se kommissaris, wil hê ons moet ’n paar Valke stuur. ’n Paar gesoute manne met meer ondervinding van moordsake en veral van reeksmoordenaars.” “’n Reeksmoordenaar in die koepel?”
“Daar het die afgelope tyd vyf mense verdwyn. Twee het weer uit die dieptes verskyn, opgevreet deur die krappe en die babers.” “Dick Delport het my daarvan vertel. Boeries se pa het gereken dis hengelaars wat gesuip raak en dan in die water val en versuip.” “Met ’n tou om hulle bene vasgebind?” Toe Pine weer nie ’n reaksie kry nie, gaan hy voort: “Onthou jy die aand van die afskeidsgeselligheid? Terwyl ons so lekker ge-Suikerbos en ge-American Pie het, het daar ’n man uit een van die rondawels naby die rivier verdwyn. En nie wie nie, juis die vent wat jou so getimmer het.” “Wat?” Kat se oë is nou skrefies. “Jy is seker nie ernstig nie!” “Daar is bloedspatsels onder ’n bloekomboom agter die rondawel gekry en daar is ’n sleepsel deur die los sand en biesies vanaf die boom na die rivier toe. Dit lyk of hy ook krapkos geword het.” “Gmf! Geen respektabele krap sal aan daardie gorilla vreet nie, hy’s te bleddie taai!” “Ek hoor by Annie de Villiers jy het darem die geveg gewen?” Kat voel versigtig aan sy lip, wat nog baie gevoelig is. “Nie ek nie, my ou pel, Boeries se pa, met ’n ding wat hy ’n ‘wedge’ of so iets noem.” Hy staan op en gaan beskou die varing by die venster aandagtig. “Wat’s sy naam?” “Nee hel, ou pel, dis darem te vroeg! Ons weet dan nog nie eers of dit ’n laaitie of ’n …” “Die varing, nie jou glipsie nie. Jy piep die ding so op dat ek gedink het …” “Hoe de hel moet ek weet? Dis ’n varing, nie ’n mens nie.” Pine vryf geïrriteerd tabakrafeltjies van sy bobeen af. Hy ken vir Kat, as hý die dag lus is vir stront praat, hou hy nooit op nie. “Dis ’n bridal fern.” “’n Wat?”
“’n Bridal fern! Ek weet, ons huis se stoep het altyd vol van die goed gehang. My ma was mal oor varings.” Pine skud sy kop, sit die koue kromsteel in sy mond. Kat openbaar soms kennis wat hom verbaas. “Anyway, is jy reg om weer die dinge daar in die koepel te gaan vasvat?” Kat gee twee lang treë terug na sy stoel. “Hoekom juis ek? Hel, my lessenaar lê vol dossiere en daar kom volgende week ’n spul hofsake af waarin ek betrokke moet wees.” “Jerome kan daardie sake verder hanteer. Julle het in elk geval saam daaraan gewerk.” Pine druk weer sy pyp tussen sy tande in om sy moedswillige glimlag weg te steek. “Jy was natuurlik aanvanklik ook ’n verdagte in die verdwyning van daardie laaste boorman.” “Ek! Is jy bedonnerd?” “Wel, julle tweetjies was net die vorige aand in ’n geveg tot die dood, en hy hét jou seergemaak.” Kat gaap Pine aan. “Jy kan nie ernstig wees nie. Toe hy besig was om te verdwyn, het ek half gesuip om jou nek gehang en gesing van ’n ou wie se toilet flenters is.” “Toilet? Ons het van g’n toilet gesing nie!” “Natuurlik. Hy sing dan van hoe hy met sy Chev na die lewwie toe gaan, maar die ding is droog.” Dis Pine se beurt om sy ou vriend aan te gaap. “Weet jy hoekom het hulle jou as verdagte gelos?” “Nee.” “Omdat jy so bleddie dig is.” Kat sit Pine broeiend en aankyk, verander dan die onderwerp: “Wie is nog in die taakspan?”
“Eintlik is jy vir eers die hele span. Mkhize sê ons kan nie nog manne afstaan nie. As jy later vra vir hulp kan ons weer praat. Gaan kyk maar eers wat gaan vir wat.” Pine stoot ’n lêer oor die tafel. “Hierin is alles wat jy moet weet van die ondersoek tot dusver. Daar is foto’s, kaarte van die omgewing en onderhoude wat Dick Delport en sy kollegas met inwoners gevoer het. Ek sou sê lees alles deur voor jy vertrek.” Kat vat die lêer, kyk vlugtig na die inhoud. “Waar bly ek?’ “Die moorde en verdwynings is nie goed vir die toerismebedryf in die koepel nie. Lekker Rus is amper leeg. Hulle stel jou ou bungalow tot jou beskikking.” “Aan wie moet ek verslag doen?” “Aan my. Maar jy en die ander eenhede daar moet saamwerk.” Kat staan op en begin deur toe stap. “Wanneer gaan ek?” vra hy sonder om na Pine te kyk. “Jy moes al daar gewees het.” By die deur draai Kat om; die deurknop in sy hand. “Moet Mooi Annie nie weer saam nie? Ek kan haar dalk nodig kry.” “Dit kan ek glo. Nee, hulle het hul eie forensiese mense daar.”
33
ʼn Vrou met ʼn grys bolla, goueraambril en ʼn vriendelike glimlag maak die voordeur vir Kat oop. Sy is besig om haar hande, wat wit is van die meel, aan ʼn voorskoot af te vee. “Sie jy, Wagter!” raas sy eers met die boerboel wat met sy modderpote teen Kat wil opspring voordat sy hom binnenooi. “Kom in, Kolonel. Koot is by die pomp, maar ek het iemand gestuur en hy is op pad.” Sy beduie by die eerste deur in die gang in. “Maak jou solank tuis in die voorhuis, ek stuur koffie.” “Dankie, Mevrou.” “Ek is besig met ʼn broodknieëry, sê maar as jy iets nodig het.” Sy loop ʼn entjie weg; draai weer om. “Van watter Harmses is jy, Kolonel? Daar was destyds ʼn Jan Harmse saam met my op Hoërskool Wessel Maree. Odendaalsrus se wêreld.” “Nee, Mevrou, my mense is van Johannesburg. My pa was op die spoorweë.” Sy lyk ʼn bietjie teleurgesteld. “Ag, nou ja,” sê sy met ’n sug, “sit solank en maak jou tuis.” Wonderfontein se voorhuis is nie wat ʼn voorhuis in die ou dae was nie. Kat se ma het hulle s’n die stink sitkamer genoem, want dit het van die alewige toestanery altyd muf en na meubelolie en vloerpolitoer geruik. Niemand het ooit in daardie donker, koue plek met sy toegetrekte gordyne gekom nie – net die predikant en die ouderling is daar toegelaat. Dit was ook die plek waar die vertoonkas met die geboë glasdeure in die hoek gestaan het met al Ma se “klein kakkies”, soos Pa dit genoem het. Daar was klein glashoenders, porseleinfigure wat dans, sit en visvang of sommer net mooi lyk in lang rokke en uitspattige hoede. Daar was wit-en-blou Delftbordjies en klokkies en koppies en klein Hollandse klompies. Selfs ʼn wit porselein-Coronation-whiskybottel van 1953 met die jong koningin Elizabeth se gesig op – ongelukkig lankal leeg. Die enigste ding in daardie kas wat Pa s’n was, was ʼn groot bierbeker in die vorm van ʼn visserman se gesig, kompleet met baard en ʼn pyp. Die beker het ʼn blink edeltindeksel aan ʼn skarnier ook gehad. En dan natuurlik die platgedrukte rooi roos op watte in ʼn ou maroenkleurige Max Factor-laventelboks. Waar die droë
blom vandaan gekom het, wou niemand wat weet, sê nie, maar Pa het daardie uitgedroogte blom gehaat, en Ma wou nie praat nie, net soms met die ding in haar hande lank na die horison gesit en staar. Wonderfontein se voorhuis stink nie, want die gordyne is oopgetrek en die son stroom in deur die houtvensters wat wyd oopstaan. Die meubels is van swaar embuia met dik bal-en-klou-pote. Daar is ook ʼn vertoonkas, maar met ʼn verskil: pleks van ʼn klomp stofopgarende, nuttelose “klein kakkies” is die glaskas gevul met swemtrofeë, atletiekmedaljes en gimkanabeeldjies. “Ek sien jy het die familiejuwele ontdek …” Kat draai vinnig om en sien Koot Kruger agter hom. “Dis die twee seuns se prestasies daardie.” Koot haal sy hoed af. “Kwits, jammer jy moes wag. Ek het die motor van daar onder af gesien.” Die ou man se pypsteel en twaksak steek by sy kakiehemp se sak uit en die kakiebroek se bokknieë is vol modder. Hy steek sy hand uit. “Kolonel Kat Harmse, nie waar nie? Ons het die aand met die partytjie daar in Lekker Rus ontmoet. Welkom weer ʼn slag in die koepel.” “Sê sommer net Kat, oom Koot. Ek is jammer om te pla; ek kan maar later weer ʼn draai maak as dit nou ʼn bietjie moeilik is.” “Kwits, nee, Hendrik kan vir ʼn ruk self aangaan. Die watertenk hier agter die huis teen die rant was leeg, want die pomp het gekalf en ons was van gisteraand af sonder water.” Hy syg met ’n sug in ’n stoel neer. “Sit, die koffie is seker op pad.” “Gebruik julle dan die water uit die rivier?” “Nee, kwits! Daardie water is te vuil, jy sal dood as jy dit moet drink. Ons pomp uit ʼn boorgat van onder langs die rivier af.” “En die wonderfontein waarna die plaas genoem is?” Koot werk met sy duim twak uit die twaksak in die kromsteel se kop in. Kat kan sien dat die pypsteel al ʼn slag moes gebreek het, want dit is netjies met ʼn stuk koperpyp gelas. Koot staan op en vat weer sy hoed. “Kom ons gaan sit op die stoep, die vrouens wil nie hê ek moet hier rook nie, dit laat die plek glo stink.” Op die stoep maak Koot eers die twak goed brand voordat hy weer praat. “Weet
jy, Kat, oorleweringe wil dit hê dat hier water op die kop was toe my grootjie, Tjaart Johannes, hom in 1836 hier kom vestig het. Hier móés water naby die huis gewees het, want die Matabeles was daardie dae op die oorlogspad en het wyd en syd geplunder, niemand het ver van water huis opgesit nie. Soos jy sê, die plaas se naam is tog Wonderfontein, maar ek het daardie fontein nooit gesien nie. Miskien het my grootjie maar net gewonder waar hy ʼn fontein kan kry.” Die ou man kug-kug half by homself en spoeg ʼn bruin straal pypolie oor die lae stoepmuurtjie. ʼn Huishulp sit ʼn skinkbord met koffie en ʼn bakkie met groot uitgedroogde anysbeskuite op die draadtafel tussen hulle neer. “Kry, ou seun,” beduie Koot en wag totdat Kat met ʼn koppie koffie en ʼn stuk beskuit terugsit, vra dan: “Wat bring jou terug koepel toe? Ek het verstaan jy is in Johannesburg gestasioneer. Is jy nou op vakansie?” Kat grinnik. “Nee, so gelukkig is ek nie. Ek ondersoek die verdwynings en moorde van die afgelope tyd in die koepel. Dick Delport-hulle is skielik oorlaai met sake uit die koepel.” “Moord!” Koot stik amper in die koffie wat hy besig is om met die een oog toe uit die piering te drink. “Goeie genugtig, wie is vermoor? Ek dog dit was gewone verdrinkings …” “Nee, oom Koot, daar was ʼn stuk tou om die een boorman se enkel geknoop. Dit wil lyk asof iemand hom lank onder die water wou gehou het.” “Genade! Wat gaan deesdae in die koepel aan?” Koot maak die piering weer vol. “Hoe kan ek help?” Kat sit die leë koppie terug op die tafel, vee sy snor met die agterkant van sy hand skoon. “Ek weet self nie, maar ek moet iewers begin. Dis vir my ʼn onbekende, anderste wêreld dié, en as ek vra, verwys die mense almal my hiernatoe. Hulle sê die Krugers was die eerste wit mense in die koepel.” “Nou wat wil jy weet, Kolo … uhm, ou seun?” “Dalk hoe die plek ontstaan het, Oom? Ek meen, van die suide af ry jy nog op die plat vlaktes en dan is jy skielik tussen hierdie beboste rante met die kronkelende rivier. Ek het ʼn idee as ek weet hoe die plek ontstaan het, die aardrykskunde van dié anderste plek beter verstaan, sal dit my dalk help om
hierdie geheimsinnige verdwynings ook beter te verstaan.” Koot buk af en sit ʼn piering met die laaste bietjie koffie en ʼn stuk beskuit voor die neus van die boerboel wat hom by sy voete kom tuismaak het. Die groot hond staan nie eers op nie, dis te lekker op die koue klip; hy kou eers die stuk harde beskuit voordat hy die koffie so lê-lê met ʼn lang rooi tong uit die piering tussen sy voorpote lek. “Kwits, jong, jy moet eintlik met Tjaart gesels oor daardie dinge, hy is die ekspert as dit by die koepel kom. Ek het grootgeword toe almal nog geglo het hierdie is die krater van ʼn ou uitgewerkte vulkaan. So in die sestigerjare se kant het die slim mense uitgevind dit is eintlik ʼn impakkrater wat ʼn meteoor of ʼn ding hier kom maak het. Maar praat eerder met Tjaart, hy sal jou meer kan vertel.” “Ek sien, oom Koot,” sê Kat, beduie dan na die huis. “Dit is ʼn groot ou kliphuis, was hy maar altyd hier?” “Nee, kwits. Dit het ook maar begin as ʼn ou hartbeeshuisie hier agter. Met die jare hiernatoe geskuif en al groter en stewiger geword so met die tyd saam. Ons was ook nie regtig die eerste mense in die koepel nie, hier agter die huis teen die rant is daar klipkrale waar inboorlinge moes gebly het eeue voor ons wit mense hier gekom het. My mense noem hulle die ‘klipswartes’, omdat daar oral in die koepel hierdie klipbouwerk van hulle gesien kan word. Hulle was meestal veeboere, maar kon met metale ook werk. Hier agter is ʼn plek waar hulle yster of koper moes gesmelt het, seker om wapens en ysterwerktuie te maak.” Kat staan op, gaan staan by een van die stoeppilare. Die koepel lê oop na die ooste en in die dynserige verte kan hy die dakke van ʼn dorpie sien blink. Die plaaspad na die opstal loop steil teen die rant op vanaf die Reitzburgpad, maak ʼn draai totdat dit weer reguit trek deur die plaashek en dan voor die huis verby na die store en klipkrale agter die huis gaan. “Is dit net Oom en die tante in die huis?” “Nee, dis te groot vir ons twee.” Koot kug so half na sy skoene toe. “Die klomp Krugers bly almal hier op ʼn hoop, soos ʼn Amiese kolonie. Ons deel die huis met Hendrik en sy gesin – Hendrik is die een wat boer. Tjaart, die ander seun, is ʼn skilder. Jy het seker al van sy werk in die kamp of in Parys gesien, meer natuurtonele van die koepel self. Hy het vir hom ʼn blyplek en ateljee hier agter die huis teen die rant se boonste punt gebou, naby die klipswartes se krale. Die lig is glo beter daar vir skilderwerk, én hy kan verder sien. Hy bestuur ook
Lekker Rus se kamp aan die oorkant, maar ek dink jy weet dit al.” Kat steek ʼn sigaret op, blaas die rook die blou lug in. “Ja, ek het hulle albei al ontmoet. Het julle net die twee seuns?” “Nee, twee dogters ook. Die een is getroud en werk in Amerika; die jongste werk iewers in Londen.” Die ou man bly ʼn rukkie stil. “Ons sien hulle nie baie nie.” “Bly Tjaart alleen daar, oom Koot?” “Ja,” antwoord die ouman kortaf en staan vinnig op. Hy trek die veldhoed se voorpunt af om die son uit sy oë te kry en tuur stip in die pad af. “Jy sal sommer met Tjaart self kan gesels, dis hy wat daar aangehardloop kom. Hy was ʼn offisier in die weermag en is van daardie dae af ʼn fiksheidvraat.” Hy knik in die vinnig naderende man se rigting. “Sy oggendoefening, of dit nou reën of kapok, dis elke oggend se ding – hardloop elke jaar die Comrades ook. ʼn Hele paar van daardie medaljes in die kas is syne.” Koot se stem is trots, maar sy oë sê iets anders. “Tjaart, staan nader!” roep hy wanneer sy seun die tuinhekkie oopstoot; die boerboel hardloop hom stertswaaiend tegemoet. “Hier’s iemand wat jou wil sien.” Kat het Tjaart al ʼn paar keer in Lekker Rus gesien, maar nooit regtig ag geslaan op hom nie. Sy langerige blonde hare wat hy met ʼn sweetband uit sy oë hou, het ook al ʼn paar grys strepe in en daar is plooitjies om sy oë en mondhoeke. Sy blou oë is egter nog jonk en lewendig, en hy het die stewige maar lenige lyf van ʼn atleet. “Môre, Kolonel,” sê hy en steek sy hand uit. “Ons het darem al in die kamp ontmoet.” “Tjaart, die man is besig met ʼn ondersoek na die verdwynings hier in die koepel. Hy soek meer inligting oor die koepel self ook, hoe dit ontstaan het, daardie klas van goed.” Koot trek die groot hoed weer vas op sy kop. “Vat hom saam na jou blyplek daar bo, dan gesels julle bietjie. Ek moet vir Hendrik by die pomp gaan help.” “Dis reg so, Pa. Is daar darem genoeg water om te stort?” “Daar is seker al water in die tenk, ons hét al ʼn bietjie gepomp,” sê Koot wat
reeds met die stoeptrap afstap, die boerboel met swaaiende agterstewe agterna.
34
Wonderfontein se groot huis is gebou op ʼn soort natuurlike terras teen die rant; daaragter loop die helling weer op tot teen die rant se rotskruin. Tjaart het sy woonplek teen hierdie rotsspits gebou, langs ʼn ou struktuur van gepakte klip. Plek-plek het die ou klipmure inmekaargetuimel, maar in die geheel het die struktuur wonderbaarlik behoue gebly, veral as in ag geneem word dat die klippe baie jare terug gepak is deur die koepel se eerste bewoners. Gedeeltes van ʼn soort kraalmuur staan ʼn entjie weg van die hoofstruktuur; vir Kat lyk dit soos ʼn kraal vir beeste of bokke, of waarmee hulle ook al geboer het. “Die vroegste bewoners van die koepel, wat ons die klipswartes noem, was verantwoordelik hiervoor,” vertel Tjaart. “Ons weet eintlik nie veel van hulle nie, maar ek kan jou dit sê: Ek kan hulle teenwoordigheid aanvoel. In die nagte hoor ek hulle en dan inspireer hulle my om die koepel ʼn beter plek te maak, beter te skilder en dit aan mense bekend te stel. Kom ons stap in, dan kan jy sien waar ek werk as ek nie Lekker Rus bestuur nie. Ek gaan net gou stort, maak jou solank tuis.” Tjaart se huis bestaan uit twee groterige rondawels met grasdakke wat verbind word met ʼn leefvertrek waarvan die voorste muur bykans volledig deur ’n groot venster in beslag geneem word. Dié vertrek word ooglopend ook as ateljee gebruik. Die leiklipvloere, los matte en die lig val Kat met die intrapslag op. Skilderye hang die mure vol, of staan soos speelkaarte gestapel teen die mure. Op ʼn esel voor die venster, langs ʼn tafel met honderde buisies en potjies verf, is ʼn halfvoltooide doek met ʼn glaspot vol kosmos wat daarop vorm aanneem. Teen een rondawelmuur hang ʼn groot skildery, ’n landskap, wat die vertrek oorheers en lyk na die uitsig van die rondawel se stoep af oor die koepel. Langsaan is ʼn koperplaatjie met ’n Bybelvers: Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daarin woon, alles behoort aan die Here. Psalm 24:1. Teen die lang agtermuur hang drie skilderye, elk met ʼn koperplaatjie daarby. Kat staan nader. Wat hy van die skone kunste weet, is dêm gevaarlik, maar hy sal seker belangstelling moet toon. ʼn Skildery is vir hom net mooi as hy die ding verstaan. Die moderne gekrap lyk meestal vir hom soos ʼn hoender se agterent
tussen ballonne en versiersels op ʼn kerkbasaar. Die eerste skildery is van ʼn woeste, rokerige landskap met swart rotse, wit miswolke en rooi, stollende lawastrome. Die horison en die uitspansel daarbo is ʼn rooi-en-geel kolkende, draaiende massa niks. Op die koperplaat staan in swart letters: Die skepping. Die tweede skildery is van ʼn rustige natuurtoneel, ook iewers in die koepel. Die skilder moes op een oewer van die rivier gestaan het met ʼn blik oor ʼn gedeelte van die rivier wat helder witwater maak oor ʼn klomp rotse, met die digte plantegroei op die oorkantste wal, en wit veeryers en slanghalsvoëls wat rustig in die bome sit. Kat kan sien dat die skilder probeer het om die koepel so ongerep en onbesoedel moontlik uit te beeld. Die plaatjie lui dan ook: Die paradys. Die derde skildery is oënskynlik van dieselfde riviertoneel as nommer twee, maar op dié een is die water vuilgroen en vol waterhiasinte, en in die plek van die rustige voëls hang daar plastieksakke en bottels in die plantegroei op die oorkantste wal. Die plaatjie sê: Die mens. “Hou jy daarvan?” vra Tjaart, wat in ʼn sweetpak en handdoek om die nek uit een van die agterste kamers aangestap kom. “Ek noem dit my skeppingsverhaal.” Kat beduie na die eerste skildery: “Hel, dis kwaai. Wat is dit, ʼn vulkaan?” “Nee, dis hier waar ons nou staan, so tweeduisendmiljoen jaar gelede. Ek het die woeste leegheid probeer vasvang soos hoe dit hier moes gelyk het vóór die impak van die meteoor.” Van Tjaart se huis kan ’n mens bo-oor Koot Kruger se huis se dak sien, en daaronder lê die koepel met sy beboste koppies en valleie en dagsome van gestolde rots, ʼn grootse panorama wat die verstand te bowe gaan. Iets moes inderdaad baie lank terug hier gebeur het, en dan is daar die ou groot rivier wat deur dit alles kronkel soos ʼn slang wat nie sy rigting kan kry nie. In die verte, na die ooste, maak die ranteveld oop na die grasvelde van Vredefort en daaragter ʼn blou dynserigheid op die horison. Tjaart stap na die kroegtoonbank in die hoek en kom terug met twee bottels bier in die hand. Hy gee die een bottel vir Kat en droog water met die handdoek se punt uit sy hare. “As jy wil koffie hê, moet jy maar self maak.”
“Nee, dit is oukei.” Kat draai die prop af, beduie met die bottel na die uitsig. “Dit lyk nou anders hier.” “Ja-uh, die oudste meteoorkrater in die wêreld. Maar omdat niks en niemand daardeur uitgewis is nie, hoor jy nie daarvan nie. Wel van die baie kleiner een wat eeue terug in Mexiko die dinosourusse uitgewis het.” Kat vee die bierskuim uit sy snor uit. “Dit moes ʼn moerse ontploffing gewees het, hoe kan jy sê niemand is dood nie?” “Daar was niks gewees om dood te maak nie, behalwe miskien ʼn paar fotosinterende kolonies bakterieë. Wag, kom sit, dan vertel ek jou.” Toe hulle sit, begin Tjaart vertel, met sy oё soekend op die ver blou horisonne: “Die aarde, die derde rots van die son af, die klein blou ghoen …” sê hy stadig, asof hy aanhaal uit ʼn boek of ʼn ding, en hy suig eers ʼn slag aan die bierbottel. “… die geseënde planeet wat alles gekry het om lewe te laat ontstaan en te kan onderhou.” Hy praat afgemete en in kort sinne; hy moes dié storie al baie vertel het, maar het ooglopend nie sy geesdrif daarvoor verloor nie. Hy vertel Kat van die verwoesting wat die meteoor veroorsaak het, van die druppeleffek wat die koepel laat vorm het en van die rivier wat eeue later gehelp het om hierdie wonderlike landskap sy spesifieke kenmerke te gee. Tjaart staan op, kry ʼn pak aartappelskyfies uit ʼn kas by die kroegie, gooi dit in ʼn glasbak en sit dit tussen hulle neer. Hy maak ook ʼn pak sjokoladekoekies oop en gooi dit in ʼn ander bakkie. “Ek weet nie of jy van soet of sout hou nie, maar help jouself.” Hy druk ʼn paar van die tjips in sy mond en kou nadenkend daaraan. “Jammer vir die geskiedenisles, maar jy sê jy wil die koepel verstaan en dan moet jy weet hoe die plek ontstaan het.” ʼn Ruk sit elkeen met sy eie gedagtes en kou aan die skyfies. Dan begin Tjaart vertel van die ekonomiese implikasies van die meteoor, hoe die Witwatersrand se goud deur die impak uit die dieptes van die aarde na die oppervlakte gebring is. Hy staan op en loop ʼn paar treë weg. “Verveel ek jou?” “Nee, hel. Dis kwaai interessant.” Kat sit die leё bottel op die grond langs die bank neer en gaan staan langs Tjaart. “Nog een?”
“Nee dankie. Ek’s veronderstel om aan diens te wees. Kan ek maar rook?” Tjaart maak die skuifdeur groter oop. “Kom ons gaan sit buite.” Hy beduie na ʼn paar dekstoele, gaan haal die bakke eetgoed en sit dit op die tafel neer. Kat wys weswaarts, in Vredefort se rigting. “Hoekom is daar nie ook rante nie?” “Die koepel lyk soos ʼn perdeskoen, want die meteoriet het van die oostekant af ingekom.” Hulle hoor iemand aankom voordat hulle hom sien. Dit is Hendrik, Tjaart se broer, wat op die voetpad van die huis af tussen die bosse verskyn. Voor sy voete hardloop ʼn wit brak van onbekende herkoms, foksterriër beslis, met ʼn goeie skeut worshond by. “Hendrik met Dolla,” verduidelik Tjaart. “Hulle sal dié twee eendag saam moet begrawe. Die brak is nooit verder as twee tree van hom af nie.” Kat vee ʼn slag sy snorpunte uit sy mondhoeke terwyl hy die naderende man dophou. “Wat is jou siening rondom die verdwynings uit die koepel?” “Salmaklak se werk.” “Hoe nou?” “Ou bygeloof van die swart mense wat langs die Vaalrivier woon.” Hendrik groet en sak uitasem in een van die stoele neer, sy kakieklere is besmeer met olie en modder; hy druk ʼn koekie in sy mond. Dolla groet deur ’n nat snoet teen Tjaart se been te druk en dan wantrouig vir Kat tande te wys voordat hy regop langs Hendrik op sy agterstewe gaan sit en die koepel deurkyk vir enige hygers, bygers en tygers wat sy mense kan bedreig. “Het jy al water hierbo, Tjaart?” vra Hendrik al kouend. Tjaart knik. “Ek het al gestort.” “Hel, ek het vandag my gat los gesukkel, daai pomp daar onder is vol stront, ons sal ʼn nuwe moet insit. Dit raak tyd dat ons oorgrootjie se ou simpel wonderfontein herontdek.”
“Wil jy koffie hê?” vra Tjaart. “Nee wat, ek het netnou by die huis gedrink.” “Vertel hom van Salmaklak, Hendrik.” “Salamôlethlaka, bedoel jy.” Hendrik kyk skepties na Kat. “Die SAPD het nie baie leidrade as hulle nou al na daardie ou legende kyk nie.” Kat druk sy sigaret dood in ʼn klipasbak op die tafel. “Ons kyk na alles.” Hy kyk eintlik nie na sulke stront nie, maar te hel met hom, waarna hy kyk, is niemand se saak nie. Eintlik het hy bokkerol om na te kyk, maar Hendrik en Tjaart hoef dit nie te weet nie. Hendrik kruis sy bene. “Lyk my wragtag jy is ernstig!” As Kat hom net stilswyend sit en aankyk, gaan hy voort: “Dis ʼn Sothowoord wat beteken ‘die nat gladde ding hier langs jou in die water’. Party sê dis ʼn groot likkewaan wat met sy stert jou bene onder jou uitslaan, jou brein uitsuig en die res van jou lyf die water insleep as kos vir sy kleintjies in ʼn gat diep onder die water.” “Ben Venter het in 1971 ʼn boek oor die gedierte geskryf: Salmaklak, wat ʼn vereenvoudigde naam is,” voeg Tjaart by. “In dié boek is dit ʼn soort waterbobbejaan wat in diep seekoeigate van die Vaalrivier bly en mense die dieptes insleep.” Hy gebruik seker nie toue om die lyke af te sleep en gewigte om die lyke onder te hou nie, dink Kat. “Kolonel, het julle die gemene deler raakgesien in al die verdwynings?” vra Hendrik, en antwoord dan sy eie vraag: “Almal wat weggeraak het, was besig met een of ander besoedeling in die koepel. Soos dit vir my lyk, moet julle kyk na mense wat nie daarvan hou as die koepel so opgeneuk word nie.” “Daar is baie van daardie soort mense in die koepel.” Tjaart praat steunend van onder die handdoek waarmee hy steeds besig is om sy lang blonde hare droog te vryf. “Ek is een van hulle. Jy ook, Boet. Pa ook! Wie is nie?” “Dan is daar nog die sabotasie ook,” sê Hendrik en kyk ondersoekend na Kat. “Sabotasie?” Kat weet daarvan; Dick Delport is daarmee besig, maar laat
Hendrik gerus vertel. Hy sal graag wil hoor wat hy daaroor te sê het. “Hoër op in die rivier, in Parys se rigting, is daar ʼn groot eiland waarop ʼn swart bemagtigingskonsortium ʼn hotel en ontspanningsoord wil ontwikkel, maar hulle vorder nie. Iemand is besig om alles daar te saboteer. Voertuie se bande word gesny, suiker word in brandstoftenks gegooi en sand in die enjins. Enigiets net sodat die ontwikkeling nie kan vorder nie.” Tjaart kam ʼn slag met sy vingers deur sy klam hare. “Die ergste was laas week. Hulle het dinamiet in ʼn sinkstoor gebêre, en toe word dit opgeblaas. Gelukkig is niemand beseer nie.” Die jong man duik weer onder die handdoek in. Hoekom kry hy nie ʼn bleddie haardroër of sny die goed af nie! Daar is vir Kat iets onbehoorliks aan ʼn jong man wat so met sy hare sit en sukkel. “As hulle enige werk wil gedoen hê, moet hulle die plek dag en nag oppas,” sê Hendrik. “Daardie eiland het al meer wagte op hom as Malema om hom, maar dit hou net aan.” Van ver onder hulle kom die stemme van werkers, van die pomp in die kloof tussen die twee rante. ʼn Hadida kom op die grasperk voor die huis sit en Dolla bestorm hom met ʼn helse kabaal. “Dolla!” skree Hendrik agter hom aan, en toe dit lyk of die hond glad nie hoor nie, haal hy ʼn koekie uit die bak en roep: “Dolla! Koekie! Koekie!” Die hond steek vas en kom stertswaaiend aangehardloop, gaan sit op sy agterent en roei met sy voorpote in die lug totdat Hendrik die koekie in sy bek druk. Waar die Dolla-naam vandaan kom, weet Kat nie, want dit lyk vir hom altevol na ʼn reun. Maar nou ja, ʼn man se hond se naam is seker sy eie saak. “Ons probleem hier in die koepel is dat alhoewel dit reeds tot ʼn wêrelderfenisgebied verklaar is, dit nog nie as een geproklameer is nie, en nou probeer almal skep voordat dít gebeur. Die grondeienaars stoei met die regering oor die bestuur van die koepel. Ons kan nie toelaat dat die bestuur van die plek aan buitestanders toevertrou word nie, maar hopelik is dié twispunt nou uit die weg geruim, want die jongste voorstel van die regering is dat dit in die hande van die grondeienaars moet wees. Nou lyk dit darem vir my of dinge gaan rigting kry.”
Hendrik staan op en sit sy hoed op. Dolla gee ʼn tjankblaf en storm die trappe af, hardloop ʼn draai en jaag iets weg wat net hy kan sien. “Wag, ek moet weer na die pomp toe, ek het net kom kyk of jy water het. Sien julle,” sê Hendrik en loop teen die trap af agter die wit brak aan. Kat staan op. “Ek’s ook weg. Hoeveel brûe is hier om aan die ander kant van die rivier te kom?” “Net drie,” sê Tjaart. “Daar is die groot brug by Parys, die laagwaterbrug hier onder by Schoemansdrift en nog ʼn grote by Skandinaviadrift, dis nou Viljoenskroon se kant toe. Waarheen is jy op pad?” “Ek moet nog met ʼn paar boere gesels, hierdie kant én anderkant die rivier ook, voordat ek teruggaan kamp toe.” “Die kamp is feitlik net oorkant die rivier, maar jy sal maar Schoemansdrift móét omry. Jy kan natuurlik swem ook, dis nou te sê ás jy kans sien vir die Vaalrivier se monster.” Tjaart het dit as ʼn grap bedoel, maar Kat kan sien die man se oё lag nie saam nie. “Sorg net dat jy voor donker oor Schoemansdrift is,” sê hy, “die oumense sê dit spook daar.” “Jy’s seker nie ernstig nie,” speel Kat saam. “In elk geval, een spook vang nie ʼn ander nie.” “Nee regtig.” Tjaart se gesig is nou ook die ene erns. “Die perde wou in die ou dae, veral op maanligaande, nie deur die drif nie. Hulle sê daar iewers moet ʼn geraamte lê en voordat dit nie gevind en Christelik begrawe is nie, sal die spokery nie ophou nie.” Kat kan nie agterkom of Tjaart ernstig is of net gekskeer nie. “Toemaar, ek sal sorg dat ek voor donker met my perd daar deur is,” sê hy. Tjaart kyk nou half verleë na Kat. “Kolonel, laat ons mekaar reg verstaan,” sê hy, “daar is nie baie mense in die koepel wat wil hê julle moet die moordenaar gou vang nie. Die plek is van alle kante onder druk en ons wil dit hou soos dit was. Die moordenaar doen volgens my goeie werk, en ek is nie die enigste een wat so sê nie.”
35
Kat sit en karring met die SAPD-Golfie se radio totdat hy Don Williams se “My Rifle, my Pony and Me” hoor. Uiteindelik ’n stasie wat countrymusiek speel! “My pistool, my Volksie en ek, teen die Monster van die Vaalrivier,” sing hy vals saam. “In ’n stuk wêreld wat ek nie ken of verstaaaan nie …” Die woorde pas nie mooi by die note nie, maar wat de hel! Kat stop ’n hand vol van die gekerfde biltong wat iemand iewers vir hom gegee het in sy mond. Hy is ’n stadspoot wat die kroeë en stegies en agterstrate van die stad ken en verstaan, en hoewel hy hierdie koepelwêreld se bosse en bome en rante kan waardeer, pas hy nie in nie. Hy verstaan nie die mense se ie en bygelowe en manier van doen nie. Hy het grootgeword in die armgatbuurtes van Johannesburg, nie soos Pine op ’n plaas iewers tussen die Oos-Vrystaatse berge nie. Kat kou klaar, krap met ’n vuurhoutjie sy kiestande skoon, steek ’n sigaret op en blaas die rook deur die venster. Ja, Pine is eintlik die man vir hierdie ondersoek; hy sal die mense in hierdie berglandskap beter verstaan. As die reeksmoordenaar se motief die doodmaak van koepelbesoedelaars is, dan het hy vandag ’n hele paar kandidate vir die pos gekry. Hy het onderhoude met baie mense in die koepel gevoer, en almal is moeg vir die morsjorse. ’n Ou omie met ’n Jan Smuts-bokbaard en ’n rivierplaas het selfs met ’n ou LeeEnfield op honderd meter ’n gat deur ’n hekpaal geskiet om te wys wat hy graag met die sondaars wil doen. Dit was darem ná ’n kappie of twee perskemampoer, net om sy oog in te kry, natuurlik. Maar Kat weet hy is eintlik niks verder met die ondersoek nie. Al wat almal weet, is dat mense verdwyn om ná ’n ruk in ’n gevorderde staat van ontbinding uit die dieptes van die rivier te voorskyn te kom. Hy sal vanaand met Pine moet praat; hy voel hy is besig om sy tyd te mors. Hy kan baie meer produktief aan die hoop dossiere op sy lessenaar in Johannesburg werk. Op die Schoemansdriftpad dreun die Volkswagen rustig deur die donker, en die
klein wieletjies se gesuis op die gruispad wil-wil Kat se oё laat toeval. Die ou karretjie is nou nie sy BMW nie, maar hy is oukei as hy eers aan die gang is. Sy battery is gaar, en by die meeste plase moes hy op ’n skuinste stilhou om hom makliker aan die gang gestoot te kry, veral as hy bietjie lank gestaan het. Oor die radio kla Don Williams nou oor ’n “Gypsy Lady”. Vertel my daarvan, ou pel, dink Kat. Ek ken ook so ene! Hase hardloop plek-plek ’n ruk in die twee ligstrale saam voordat hulle weer in die lang gras langs die pad verdwyn; die oё van troppe vee blink wit agter die doringdraadheinings en soms sien hy vlugtig die rooi oë van die een of ander roofdier in die lang gras langs die pad. Die polisieduikers was van vroegoggend besig in die rivier op soek na nog lyke, maar daar is te veel gemors op die bodem en die stroom is te sterk. Kat wil sy stompie by die venster uitskiet, maar dan hoor hy weer die geoliede glygeluid van ’n Lee-Enfield se slot en druk die stompie versigtig dood in asbak. “Moet nie daai rookding net by die venster uitsmyt nie, jy sal die plek afbrand,” het die ou man met die bokbaard en die geweer gesê. “Ons het genoeg verwoesting hier in die koepel, en as hierdie rante aan die brand raak, is dit nag.” Van die man met die geweer dwaal Kat se gedagtes na die man met die skilderye. Die Bybelversies by die kunswerke en die man se aktivistiese ingesteldheid herinner Kat baie aan die vigilantegroep Hof onder die Kruis wat hulle ’n ruk terug soveel hel gegee het. Daardie saak is juis ook op ’n Vrystaatse plaas op die spits gedryf. En die ding is dat daardie groep se leier en nog een weggekom het. Kan dit wees …? Tjaart Kruger se profiel pas perfek by dié wat Blackie destyds van die lede van so ’n vigilantegroep opgestel het: fiks, ’n militêre agtergrond en ’n moerse besige by in sy kop oor die een of ander onreg. Hy sal Tjaart Kruger dalk ’n bietjie van nader moet bekyk. Kat slaan hard remme aan … twee rooiribbokke in die pad, ’n rammetjie en ’n ooitjie! Die ogies blink ’n oomblik in die ligte voordat hulle verder oor die pad hardloop en in die donker veld verdwyn. Hel, dan is die wêreld nog vol diere en ongediertes ook. En net soveel stories oor ongediertes! Die een van Salmaklak is net ’n storie, dis ’n feit. En die teorie dat dit net besoedelaars is wat verdwyn, is dalk ook niks meer as ’n storie nie. Die vrou wat
verdwyn het, was byvoorbeeld ’n gewone bewoner van die streek wat eerder met bewaring besig was as besoedeling. Sy was ’n lid van die bewarea-groep wat hom beywer vir die proklamering van die koepel as wêrelderfenisgebied. As ’n mens aanvaar dat sy regtig net verdrink het, bly daar nog drie verdwynings oor wat almal verbind kan word met die boorterrein op Koot Kruger se grond. Die twee boormanne en die gorilla met die tatoes was regstreeks betrokke by die boordery en die gepaardgaande opneuk van die omgewing daar. En die hengelaar dan? Hy weet nie. Dalk is ou Kris Freislich reg en het dié kêrel net te veel gesuip en in die water geval toe hy ’n poeliesman aan die lyn wou sit. Om ’n draai in die grondpad is die wit van die betonbrug skielik voor hom, maar die perde van die Volksie is nie bang vir spoke nie en hulle dreun sonder enige probleme oor die brug. Hel! Hierdie koepelwêreld het genoeg stories om ’n boek oor te skryf, van dié oor die ou inwoners wie se klipstrukture nog oral in die gebied te sien is tot die spoke by ’n brug. Hoekom altyd by ’n bleddie brug? Pine het ook so ’n storie gehad wat die ou mense vertel het van ’n spokery iewers by ’n drif op ’n plaas, en dit was altyd die perde wat die dwalende geeste gesien het en dit was altyd met volmaan – totdat hulle ’n kopbeen wat daar oopgespoel het ordentlik begrawe het, en toe is alles weer orraait. Hy moet vir Pine bel om verslag te doen, onthou Kat skielik. Met die een hand maak hy sy selfoon oop. Geen sein nie. Hy sal maar moet wag totdat hy terug in die kamp is, daar is ’n plek waar hy kan bel. Dan vang sy oog die tyd op die verligte skermpie: 10:30! Hel, dis die oompie met die geweer se skuld. Hy was so uitgehonger vir geselskap en het aangedring dat Kat moes bly vir ’n “mampoertjie en ’n paar koepeltjoppies”. Dis nou voordat die oom sy oog met ’n paar “persketjies” moes inkry om op sy hekpale aan te lê. Dis ook nie ’n storie nie, dat jy jou skietoog met dié voggies akkuraat kan kry nie, daarvan kan Kat self getuig: Hy het voordat hy daar weg is self die hond se waterbak op vyftig meter geklits. Hy sal maar môre moet bel, want daar is nou ’n kleintjie in die huis, en Pine werk dalk nog aan die tweede een. Dit is nie nou tyd om die man te pla nie. Hy sal hom dan sommer vertel van die gesukkel met die battery ook. Fok! As hulle hom die boendoes wil injaag, soek hy ’n vier-by-vier!
36
Charlie is verveeld. Hy staan glase en opvryf; kyk onbelangstellend na die paar mense in die kroeg. Die meeste vakansiegangers het opgepak nadat die boorman se lyk gekry is; die wat nog hier is, het klaar gepak en sal seker môre vertrek. Niks soos ’n lyk in die modderwater om jou vakansielus te demp nie. Eenkant by ’n tafel agter ’n houtpilaar sit daardie kommen myner met die gumboots se blonde dogter in die oë van die lewensredder en staar. Die Clintonmannetjie is ’n boomroker, Charlie kan dit aan hom ruik. As daar nou een reuk is wat ’n man in die tronk gou leer om mee saam te leef, is dit die soet reuk van boom, so tussen die ongewaste lywe en vuil onderbroeke deur. En dié Clinton is nie net besig met dagga nie, ander goed ook, en hy is besig om die blonde meisiekind saam te sleep. Die tweetjies verdwyn kort-kort die donker in, en as hulle terugkom, is sy meer luidrugtig en meer verlief op hom. Fok! Hy hoop nie daai myner kom hier ingestap nie. Charlie het gehoor wat hy met ’n stuk hout aan daardie boorsite se voorman gedoen het. Praat van die duiwel, hier kom daardie speurder met die groot swart snor juis ingestap. Hy gaan sit eenkant by die kroegtoonbank, gooi sy pet moeg langs hom neer. Charlie stap nader. “Yes, Kat. Wat lyk jy so opgefok?” “Moeg en gatvol, Charlie.” Die speurder steek ’n sigaret op. “Die hele bleddie koepel platgery; onderhoude gevoer. Ook nog my gat afgesukkel met daai verdomde Golf-verskoning-van-’n-kar waarmee ek moet ry. Die ding se battery is klaar.” Charlie vryf ingedagte nog ’n glas blink, kyk Kat dan ’n rukkie onderlangs aan voordat hy vra: “Sien jy baie mense as jy so rondkarring?” Kat krap afgetrokke die sigaret se as liggies teen ’n glasasbak se rand af en knik dan. “Ja wel, ek moet. Miskien weet iemand iets van die verdwynings.” Miskien moet hy die laaitie se foto vir Kat wys, dink Charlie. Hyself vorder
bokkerol met sy gerondkrappery. Maar wat sê hy vir die speurder? Hy moet tog ’n rede hê waarom hy na die mannetjie soek. “Wat drink jy?” vra hy vir Kat. “Net nie mampoer nie … ’n Dubbel Klippies-met-Coke behoort te werk.” Charlie skink die dop, sit die ysbak voor die speurder neer en vat sy geld kas toe. Die lewensredder en die blondekop staan op en stap by die deur uit; sy arm om haar lyf en haar hand in sy denim se gatsak. O, fok, hy hoop daai myner met die wedge slaap al. Charlie sit dan die foto van die seun saam met die kleingeld voor Kat neer. Hy het hulp nodig, verdomp, en wie weet, die speurder kan hom dalk help. “Ek soek self na iemand,” sê Charlie. “My suster se laaitie.” Dit is in elk geval nie te ver van die waarheid nie; sy’s net nie sy suster nie. Kat tel die foto op. “Mooi seun. Wat het gebeur, is hy ontvoer?” “Ja, more or less. Ek … ek wil eintlik nie daaroor praat nie, bietjie bad familiesake. Ek vra net, as jy hom iewers sien, sê my net.” As hierdie speurder, wat skerp genoeg is om ’n Valk te wees, hierdie strontstorie sluk, is hy eintlik maar lekker dig. Kat lig sy oë van die foto; Charlie sien hoe hy frons. “Het jy dit aangemeld?” vra Kat. “As hy ontvoer is, moet jy …” Charlie hou sy hande afwerend in die lug. “Nee, wag nou! Niks van daai aard nie, daar’s niks onwettigs nie. Sê my net as jy hom sien, ek het maar net gedink ek vra jou.” Kat gee die foto terug, staan op en gooi die brandewyn in sy keel af. “As ek hom sien, sal jy my eers die storie moet vertel. Maar ek sal my oë oophou. Nag, Charlie, ek gaan nou slaap.”
Kat is nog lank nie lus vir die bed nie. Dit is te warm en die gebeure van die dag bly in sy kop karring. Nou het Charlie se storie nog ook bygekom … hy sal graag wil weet waar daardie een vandaan kom. Kat sit en kerf met sy Leatherman aan ’n stuk vet beesbiltong wat hy ook by die
oompie met die geweer gekry het; sluk dit af met Coke uit ’n blik wat hy in die yskas gekry het. Die bottel perskemampoer wat hy ook present gekry het, het hy maar eers onder die Golfie se sitplek gelos. ’n Man moet versigtig wees met drank wat jy nie ken nie, en daardie deurskynende voggies is potent. Om môre wakker te word met ’n moerse kopseer is nie iets wat hy nou nodig het nie. Die meeste bungalows en rondawels is donker; by die karavaanpark is dit stil. Kris Freislich het ook opgepak, hulle ry môreoggend vroeg. Nie vanweë die Vaalrivier se monster nie, nee, dié man glo nie aan sulke twak nie. Die Freislichs gaan vroeër omdat hy nog ’n go-cart van ’n ou grassnyer se enjin moet gaan aanmekaar weld vir die end van die jaar se Kersfeespaartie. Én voordat hy ’n spiertier met ’n deurtrekker vir ’n skoonseun kry! In die kroeg sit ’n paar bittereinders verveeld met hul glase kringe op die toonbank en trek, en in die istrasieblok brand die lig van Tjaart Kruger se kantoor nog. Kat wonder waar Tjaart sy kar geparkeer het, dit staan nie onder die boom waar hy dit gewoonlik los nie. Miskien het hy net die lig in die kantoor aan vergeet. Dit is ’n snaakse vent, dié Tjaart. Ook nie getroud nie. Wel so bruingebrand soos ’n kameeljokkie in die Sahara en so fiks soos ’n brak voor ’n slee in Alaska. Maar Kat wonder tog of hy nie vir die ander span kolf nie. Die maan hang soos ’n verlepte lemoenskyf oor die stillerige kamp. By die rivier, waar die kamp se ligkringe nie kom nie, is dit donker en net ’n paddakoor verklap die teenwoordigheid van water. In die rante oorkant die rivier huil-blaf ’n jakkals en ’n uil steun weemoedig vanuit die groot bloekomboom. Kat vee met sy hand oor sy gesig. Sy ma het altyd gesê op so ’n donker nag is die uil ’n boodskapper uit die doderyk, en dat die dood iemand kom haal as ’n uil so aanmekaar roep. Nog van die ou mense se bleddie bygelowe. Hy voel ’n slag aan die Z88 se kolf aan sy belt. Hierdie wêreld begin nou aan hom vat, maar, hel … dis darem nou wragtag ook nie net vir kom vat nie! Skielik gaan die lig in Tjaart Kruger se kantoor af. In die nagstilte hoor Kat ’n deur toeklap en ’n sleutel in ’n slot knars. Dan sien hy ’n donker figuur teen die stoeptrap afbeweeg, dan na die rivier toe. Dit is snaaks, wat gaan soek iemand nou hierdie tyd van die nag daar? Meer uit verveeldheid en nuuskierigheid staan Kat op en drentel agterna. Toe die gedaante onder een van die kamp se ligte deurbeweeg, herken Kat vir Tjaart – sy lenige figuur en lang blonde hare. Maar wat wil hy nou by die rivier gaan maak? Visvang? Hy lyk nie juis na ’n man wat
sy hande onnodig na vis sal laat stink nie. Kat hou Tjaart stil vanuit die skadu’s dop, sien hoe hy op die sandbank die roeiboot in die water instoot en skuins teen die effense stroom in na die oorkant roei. Wat sou dit beteken? Aan die oorkant is net die donker oewer met die gewone rietplate, doringbome en treurwilgers. Kat wens hy kan Tjaart volg. Die lewensredder se kano lê nog daar, maar vir daardie lang slap ding sien Kat nie kans nie; hy twyfel buitendien of sy dik agterwêreld in die ding sal pas. In die halfdonker sien Kat die roeiboot onder die laaghangende takke van ’n groot wilgeboom aan die oorkant verdwyn. Hy wag ’n ruk, en as die boot nie weer te voorskyn kom nie, hardloop hy terug na die kroeg. Charlie lê half aan die slaap met sy twee elmboë op die toonbank, ’n sigaret slap in ’n mondhoek. Oorkant hom sit ’n vent met moeë rooi oё en ’n ewe moeë sigaret wat aan sy onderlip klou. “Charlie!” Kat probeer sy asem terugkry voordat hy Rooioog se vertelling oor ’n moeilike vrou in ’n ou woonwa onderbreek. “Charlie, ek soek ’n roeiboot!” Charlie ruk uit sy sluimering wakker. “’n Roeiboot? Hoe de hel mix ’n mens dit? Is daar Captain Morgan in?” “Fok, Charlie, ek soek nie ’n donnerse cocktail nie! Ek soek ’n roeiboot, ’n ding met spane.” Die kroegman se oё begin stadig weer fokus. “Om wat mee te maak?” vra hy. “Verdomp! Wat maak ’n mens met ’n roeiboot? Demmit, om maan toe te vlieg natuurlik!” “Sa- … sallie werkie,” sê die dronkie van onder ’n keps wat skeef op sy kop sit. “Dan moet h-hy rocketenjins hê. Ek het op die televisjie gesien, die goed maak sjulke sparks as hulle take-off. Dan sjê ’n ou: ‘We have l-lights off,’ of so ietsj …” Charlie hou ’n lang glas onder die Wellingtonbottel. “’n Dubbel of single?” vra hy. “Man, ek soek nie ’n dop nie, ek soek ’n bleddie boot.”
“Jy kan nie dié tyd van die nag op die rivier gaan rondneuk nie, ek hoor daar is allerhande monsters en goed …” Kat vryf sy snor uit sy mondhoeke. “Ek glo nie in daardie rubbish nie!” Hy besef dat dit in elk geval nou te laat is. Wat Tjaart Kruger ook al op die rivier gaan aanvang het, het hy lankal klaar aangevang. Die man met die keps het die hele gesprek gevolg met sy een oog toegeknyp, en hy probeer nou sy arm om Kat se skouers sit. “Ou pel, ek het ’n boot vir jou,” sê hy. Kat duik onder die arm deur. “Waar’s die ding?” Miskien … as hy gou genoeg op die rivier kan kom. “By die karavaan. Jy sa- … sal net bêtteries in die remote moet sit. Hy vat enige aas lekker diep in.” “Ag hel …” Kat sug. “Los maar.” Hy sal môre vir Pine moet laat weet dat hy ’n boot ook soek – met ’n enjin, dink Kat terwyl hy terugstap bungalow toe. Hy is nie lus vir roei en ’n gesukkel nie. Hoe de hel moet hy die monster van die Vaalrivier vang as hy nie eers ’n boot het nie? Kat verander skielik van rigting en stap weer sandbank toe. Die roeiboot is steeds weg. Miskien moet hy wag om te kyk of Tjaart terugkom. Hy gaan in elk geval net sit en bokkerol doen op die stoep. Hy maak hom gemaklik op ’n klip agter ’n rosyntjiebos. As Jerome of een van die ander speurders hom nou kan sien, bedinges hulle hulself. Hy hoor hulle al: “Kolonel Harmse en die riviermonster!” Hel, hy is ’n Jo’burg-poot, nie ’n Indiana Jones wat die rivier se geheime wil oplos nie. Kat steek ’n sigaret aan, die aansteker se vlammetjie verskuil agter ’n bakhand. Hy sal maar ’n ruk hier sit en dan gaan slaap. Die nag is so stil dat hy selfs die gekabbel van die water oor die klippe hoër op in die rivier kan hoor. Kort-kort spring ’n vis in die diep gat water. Toe Kat die geluid van roeispane hoor, druk hy die sigaret in die sand dood en gaan hurk agter die bos. Dis wel die roeiboot, maar iemand anders wat die spane
trek. Kat se hare in sy nek kom stadig regop en hy haal die pistool uit sy holster. Dit kan tog nie ’n mens wees in die roeiboot nie, dis ’n pikswart ding met ’n paar groot oё wat blink in die maanlig. Salmaklak in ’n roeiboot? Not ’n dêm! Die boot stamp teen die sandbank vas en die ding spring uit. Kat trek die glystuk van die Z88 terug. Is dit ’n misdaad om ’n monster te skiet? Te hel met wat die wet sê, daar is nie ’n manier dat hy vir die een of ander ding se kleintjies kos gaan word nie. Maar dan laat sak Kat die pistool. In die flou ligskynsel van die kamp kan hy nou sien wat uit die boot geklim het – ’n man in ’n duikpak met ’n duikbril op sy kop! Die bouvorm lyk soos dié van Tjaart Kruger. Wie kan dit in elk geval anders wees? Maar waarom die duikpak? As jy ’n duikpak aanhet, gaan jy nie dans nie, jy gaan swem, en swem beteken water en hier beteken water die Vaalrivier. Die swart gestalte sleep die boot op die sandbank uit en hardloop met ’n paar paddavoete in die hand tussen die bosse in, op na die istrasieblok. As Tjaart nie van plan is om hier te swem nie, gaan hy dit op ’n ander plek doen en Kat wil weet waar. Toe Kat Tjaart se vier-by-vier agter die istrasieblok hoor brul, hardloop hy na sy Golfie wat langs sy bungalow geparkeer is. Die sleutel steek nog in die Golf se aansitter, maar toe hy dit draai, gebeur niks. Ná ’n sekonde of twee is daar ’n trae gekarring, maar dis eerder die geluid van ’n ding wat wil vrek as ’n enjin wat wil vat. Kat sien die ligte van Tjaart se voertuig tussen die bome deur na die hek toe beweeg. Hy probeer die kar weer aan die gang kry, maar hierdie keer maak die aansitter net ’n finale klikgeluid. Selfs die toeter werk nie. “Bliksem!” Moedeloos slaan hy sy hande op die stuurwiel. Die ligte van Tjaart se voertuig draai by die hek uit en verdwyn in Venterskroon se rigting. Kat haal sy selfoon uit. Nou bel hy vir Pine, so kan hy verdomp nie sukkel nie! Maar steeds geen sein nie … “Ag, hel, wat nog?” Hy sal ’n ent teen die rant moet opstap, daar is darem gewoonlik ’n sein. Die een of ander grapjas het daar ’n paal geplant met ’n bordjie wat “poskantoor” sê daaraan vasgespyker. Kat begin in die flou maanlig met die voetpaadjie opklouter, gly-gly op los klippe. Hy struikel oor ’n tak, slaan neer en sy hande
skuur pynlik oor die gruis. “Hierdie is sommer stront!” brul hy moerig die naglug in. As Pine hom nie uit hierdie bleddie boendoes onttrek nie, bedank hy. Hy is ’n Valk, demmit. Hy sal wel iewers by ’n sekuriteitsmaatskappy ’n joppie kry, al is dit net om karre op te pas by die een of ander shopping mall! By die poskantoorpaal gaan sit Kat op ’n rots. Daar is wragtag ’n sein! Hy druk Pine se nommer, loer na sy horlosie. Dit laat hom nogal goed voel as hy sien dat dit reeds drieuur is. Vir wat sal die bliksem lekker agter Ann se rug lê en slaap terwyl hy moet bergklim om iets simpels soos ’n telefoonoproep te kan doen! “Hallo, Kat. Wat’s die probleem?” Slaperig, maar nie slaperig genoeg om Kat goed te laat voel nie. “Wat’s die probleem? Ek sit halfpad teen ’n bleddie berg op ’n koue bleddie klip by ’n poskantoor wat niks meer as ’n vrotgereёnde paal is nie, en jy wil weet wat die probleem is. En …” “Wag … wag ’n bietjie. Stadig! Jy gaan vir Ann en Tiaan wakker raas. Hou aan, ek stap gou studeerkamer toe.” “Ek hoop hulle word albei wakker en moer jou met ’n natgepiste doek of so iets misliks op die kop sodat jy –” “Right, praat maar,” sê Pine en trek die studeerkamer se deur agter hom toe. “As ek hierdie stuk kak wat julle vir my georganise het om mee te ry gestart kry, gaan ek môre Jo’burg toe om Silkaats se pienk tie af te sny, jou in jou dik pens te moer en dan te bedank! Ek word eerder ’n PI en loer rondloperige mans af met ’n langlenskamera en –” “Wag nou, stadig! Wat’s jou probleem?” “Probleem? Probleem? Ek sal jou sê wat my fokken probleem is. Die ding wat julle vir my gegee het om mee op safari te gaan se battery is gaar. En as ek kroeks wil vang, moet ek eers iemand kry om die ding te stoot!” Pine lag. “Klink vir my baie soos daardie rooi BMW van jou. Jy voel seker heel tuis met die ding.” “En ek soek ’n boot ook, verkieslik ’n ding met ’n enjin. Ek is nie lus vir roei
nie. As jy en Silkaats dit nog nie weet nie, die misdade word op die Vaalrivier gepleeg en daar is water in!” Kat klap na ’n muskiet op sy nek. “As julle wil hê ek moet die monster van die Vaalrivier vang, moet julle vir my opblaasvlerkies en paddavoete ook stuur. Ek sink fokken maklik!” Pine kan hoor sy vriend is gatvol verby. “Oukei! Oukei! Jy sal die goed môre hê. Ek sal met Potchefstroom reël. Wat nog?” “En ’n battery vir die geleentheid wat veronderstel is om my flying-squad-carinnie-bos te wees.” “Sal ’n vier-by-vier dit vir jou doen?” Kat is ’n oomblik lank sprakeloos. “Ja-a …” sê hy dan huiwerig; wonder of dit nie nou sommer die tyd ook is om vir ’n verhoging te vra nie. “Sonder kentekens, die skarminkels sien my myle ver aankom.” “Oukei, jy het dit. Ek sal met Potch reёl. Hoe gaan dit met die ondersoek?” “Ek dink ek is op die spoor van iets, maar ek moet wiele hê en ’n boot om –” “Ja, ja! Oukei, jy het dit al gesê. Ek dink jy moet opstaan van daai koue klip af, jou brein kry koud.” “Aag, Pine, gaan skyt jy!” “Dieselfde vir jou, net in Engels. Nag, Kat, lekker slaap.” “En ’n nagverkyker,” sê Kat vinnig, voordat Pine kan aflui. “’n Wat? Nagverkyker! Om wat mee te maak?” “Meisies afloer. Wat anders dink jy wil ek doen hier in die boendoes?” “Ek sal kyk wat ek kan doen.” “Gee Ann ook sommer ’n drukkie van my af. Sê vir haar –” Pine het egter reeds afgelui. Kat kyk vies na die selfoon. “Ek sal môre sien of dit net bekpraatjies is,” mompel hy en begin weer in die donker met die voetpad
afsukkel na die kamp toe.
37
Vroegoggend ruk ’n gehamer aan die bungalow se deur Kat wakker; op die stoep staan Dick Delport met ’n breë glimlag. “Waar moet ek dié een parkeer?” Hy beduie met sy duim na ’n wit bakkie met ’n sleepwa met ’n opblaasboot daarop. “Ek weet nie watter toutjies jy getrek het om dié goed te kry nie,” sê die lang, maer speurder, “maar sulke dinge gebeur gewoonlik nie so vinnig in die SAPD nie.” Kat gee lang, stadige treë na die voertuig toe; Pine het wragtag sy bes probeer. Die modder- en beesmisbesmeerde Toyota met die gestampte modderskerm is nie meer vandag se kind nie, maar dis ’n vier-by-vier. Die rubberduck is nou nie juis ’n ding waarmee jy op die see sal kan uitgaan nie, maar op die rivier sal dit werk. “Die Toyota is die veediefstaleenheid s’n en hulle sê jy moet jou gat roer, hulle het hom nodig vir die skaapdiewe.” Dick krap effe verleë sy kop. “Die verkyker is in die paneelkissie.” “En die boot?” “Die duikeenheid s’n. Hulle sê as jy die ding opneuk, versuip hulle jou.” Kat loer na die rubberboot. “Waar is die enjin?” “In vir diens, maar daar is roeispane.” Kat sug. Soos met alles in die SAPD kry jy nooit presies wat jy wil hê nie. “Moet ek jou terugvat Potch toe?” “Nee, ek moet na daardie eiland gaan waar hulle ’n hotel wil bou. Iemand het gisteraand weer ’n bulldozer se enjin opgeneuk. Dit smaak my daar’s iemand dood ook hierdie slag. Ek sal sommer met die Golfie ry; hy moet in elk geval terug stasie toe.” “Het jy ’n battery gebring?” “Ja,” sê Dick, steek ’n sigaret op, blaas die rook na waar die son oor die rivier se
bome loer. “Dis op die Toyota se bak, as jy net sal help om hom in te sit.” Kat sukkel om die slaap uit sy oё te vee; daar was die vorige nag nie veel slaaptyd nie. “Het jy ’n spanner vir die kabels?” Hy gaap en krap in sy swart hare. “Nee, maar daar is ’n waterpomptang in die Toyota se paneelkissie. Dit sal werk.” Dick maak die Golfie se enjinkap oop en begin sukkel met die battery se terminale – die tang se bek bly gly. “Hoe gaan dit met die ondersoek?” vra hy van onder die kap. “Nie veel nie. Met die boot en die bakkie sal dit hopelik beter gaan.” Kat buk langs Dick onder die enjinkap in, neem die tang met die lang bek uit Dick se hande, verstel dit en probeer een van die terminale losdraai. “Pasop dat jy nie daai moer strip nie; stel die ding nog kleiner,” gee Dick raad. Kat wikkel die terminale los en lig die pap battery uit. “Het jy enige idee wie verantwoordelik is vir die sabotasie op die eiland?” Hy sit die battery wat Dick gebring het in posisie en begin die terminaalklemme vasdraai. “Dis moeilik. Daar is nie ’n mens in die koepel wat nie daardie ontwikkeling se einde wil sien nie. Daar is ook nie juis leidrade nie.” Kat gee die moere ’n laaste draai en staan terug om sy handewerk te betrag. “Dié bleddie battery is ook ’n oue.” Hy bekyk die ding met die wit batterysuur aan die terminaalklemme skepties. “Sal hy ooit werk?” “Die manne by die garage het my belowe hulle het die ding gister heeldag op quick charge gehad. As dit nie werk nie, gaan iemand gemoer raak.” Kat grinnik, gee sy snor ’n paar veë en haal die bottel witblits onder die Golfie se sitplek uit; ’n man weet nooit in hierdie bosse wanneer slang jou sal byt nie. “Nou ja, try hom … laat jy gaan kroeks vang.”
Die Golfie het genadiglik gevat, en nadat Dick sy ry gekry het, het Kat die boot met die Toyota tot by die sandbank gesleep. Die oord bied nie juis bootritte aan nie en in die afwesigheid van ’n behoorlike vasmeerplek moet die sandbank
maar instaan. Met die hulp van Charlie en die slim kampeerder van die vorige aand het Kat darem die boot afgelaai en in die water gekry. Nou roei Kat op en af om aan die boot gewoond te raak. Hy bly met opset ver van die riete af waar Tjaart gisteraand verdwyn het; die man is in die kamp en hy wil hom nie onnodig agterdogtig maak nie. Hier van die middel van die rivier af kan Kat niks snaaks by die wilgeboom of rietbos sien nie. Hy laat die rubberboot stadig saam met die stroom voor die plek verbydryf, roei dan weer sterk stroomop, asof hy oefen, en dryf weer stroom-af. Niks. Net voëls wat tussen die riete aan die nes bou is; die wewers en rooi- en geelvinke se geraas is oorverdowend. Kat besef dat hy nou niks meer kan doen as oefen nie, want voordat dit nie behoorlik donker is nie, sal hy nie naby die plek kan kom nie.
38
Dit is stiknagdonker wanneer Kat weer die boot in die water stoot. Die effense maantjie het agter ’n wolkbank verdwyn en Charlie sit gewoonlik die meeste van die kamp se ligte af as daar nie vakansiegangers is nie. Kat het Tjaart Kruger heeldag in die visier gehad. Die man was ’n slag Potch toe, blykbaar om voorrade vir die kamp te koop, en hy het die wassery op Parys met die kamp se beddegoed besoek. Niks snaaks nie, niks verdag nie. Tjaart was selfs op die eiland met die nuwe ontwikkeling en het ’n ruk daar rondgehang voordat hy weer terug is na Lekker Rus. Nadat Tjaart weer terug was in die kamp het Kat self oor die tydelike staalbrug gery wat die noordwestelike oewer met die eiland verbind. Hy wou gaan kyk wat daar aangaan. As Tjaart die saboteur is, wat het hy dan nou op die eiland gaan soek? Dit was vir Kat ooglopend dat die koepelbewoners se beswaar teen die bou van ’n hotel en ontspanningsoord op die eiland heeltemal gegrond is, maar wat het Tjaart daar gaan maak? Paradyseiland, of dit is altans die naam op ’n bord by die brug. Maar wat eers ’n strook digte natuurlike boswêreld tussen twee strome van die rivier was, is nou gedeeltelik ontbos en ’n laaigraaf was besig om slote te grawe en die grond en rotse op vragmotors te laai. Groot bome het wortels in die lug eenkant weggestoot gelê, die blare en takke reeds droog gebak deur die son. Kat het gehoor die plek gaan ’n Toskaanse paleis wees, met palmbome, kunsmatige stroompies en watervalletjies en geplaveide paadjies … die mens se eie idee van ’n paradys. Dick se ondervraging van die konstruksievoormanne en veiligheidswagte op die eiland het ook niks opgelewer nie. Hulle het niks gesien nie, en g’n verdagte het oor die bewaakte brug gekom nie. Die twee gesaboteerde laaigrawe was die vorige middag nog besig met grondverskuiwing, maar die oggend was al hul diesel- en hidrouliese pype en elektriese drade geknip. Daar was ook sand in die dieseltenks, het dit later geblyk. En toe hulle besig was met die stukkende
laaigrawe, ontplof die twee groot opgaardieseltenks. ’n Man wat besig was om ’n konstruksie-bakkie vol diesel te maak is met erge brandwonde in die hospitaal opgeneem. Hy het dit nie gemaak nie. “Nou is dit nie net meer sabotasie nie, maar moord,” het Dick gemompel toe hulle teruggestap het motors toe. “Hulle pas hierdie verdomde eiland soos ’n goudmyn op, maar hulle word steeds gesaboteer. Hoe kry die bliksem toegang tot die eiland? Vlieg hy?” Kat het niks gesê nie, maar hy het ’n idee gehad. Hy klim in die rubberboot en druk die roeispane in die water. Tjaart se boot lê op die sandbank en sy Land Rover is nie by Lekker Rus nie; dit lyk nie of hy vanaand enige planne het nie. Kat roei effens stroomop, soos Tjaart dit die vorige aand gedoen het, sodat die stroom hom wilgeboom toe kan vat. Ook maar goed hy het nie ’n buiteboord vir die ding nie, dit sou te veel geraas gemaak het en net aandag getrek het. By die boom druk Kat die boot se neus versigtig onder die takgordyn in en skakel die flitslig aan. Hy moet wragtag net nie die boot se neus in ’n skerp stok of ’n wortel of so iets vasdruk nie. Die boot sal wel nie heeltemal afblaas nie, want dit bestaan uit verskillende kompartemente, maar hoe de hel verduidelik hy dit aan die brekers van die duikeenheid? Onder die boom is daar niks buitengewoons nie. Kat se flitslig gly oor die ou wilg se klapperhaarwortels vol krapgate, dan oor riete wat teen die wal platgedruk is. ’n Spul wewers vlieg met ’n lawaai die nag in. Dit lyk asof daar ’n kanaal is tussen die rietbos en ’n vertikale krans wat daar die wal vorm. Met ’n paar hale van die spane druk Kat die rubberboot in hierdie kanaal tussen die wal en die rietbos in; die riete maak soos ’n outomatiese garagedeur agter hom toe. In die rotswand sien Kat nou ’n opening, iets soos die bek van ’n grot agter ’n smal lys. Kat laat die flitslig so ver moontlik in die gat inskyn. As die rivier afkom, sal dié opening onder water wees. Dit lyk vir hom meer na die resultaat van ’n rotsverskuiwing jare terug in die kwartsiet as ’n grot, of selfs ’n skeur in die rotswand. Hy maak die boot aan ’n boomwortel vas en klim uit op die rotslys. Nou kan hy sien dat die opening met tralies afgesper is – ’n traliedeur met ’n slot aan! Uit die opening kom bedompige nat lug; in die flitslig lyk dit asof die vloer
van die skeur van agter die tralies skuins na bo loop. Plek-plek kan ’n mens ook sien dat die skeur groter gemaak is, dalk met dinamiet, of dalk is dit afwisselende hitte en koue wat die rots laat afsplinter het. Daar is ook holtes in die klipvloer gekap, ’n soort trap waar die vloer te steil en glad is. Die slot aan die traliedeur is van geelkoper en vlekvrye staal, dit sal nie maklik roes nie, selfs nie in hierdie vogtige omgewing nie. Kat sal spesiale toerusting nodig hê om die slot oop te maak, tensy hy dit kan breek. Hy gaan soek in die boot en kry ’n stuk yster – die polisieduikers gebruik dit seker as ’n anker. En dit werk inderdaad! Die slot se binnegoed moes tog al geroes gewees het, want met die tweede kap met die yster spring dit oop. Kat druk teen die ou ysterhek en dit swaai skreeuend oop. ’n Ruk staan hy stil en luister voordat hy versigtig in die steil rotsskeur begin opklim. Party van die vastrapplekke het al baie verweer; Kat moet klou om nie te gly nie. Op party plekke is die skeur baie nou en hy moet sy skouers dwars draai om deur te skuur. Nadat hy ’n ruk lank so gesukkel het, kom hy natgesweet op ’n plek waar die vloer ’n paar meter horisontaal loop voordat dit byna loodreg na bo loop. Hier is ’n kettingleer teen die rotswand aangebring om die klimmery moontlik te maak. Langs die kettingleer is ’n pen in die rots gekap; hieraan hang ’n swart duikpak, duikbril en paddavoete. Dit moet dan die plek wees waar Tjaart van sy klere ontslae raak en in sy swart duikuitrusting klim. Daar is by Kat nou geen twyfel meer nie dat Tjaart deel is van die gebeure in die koepel nie. Hy is seker daarvan dat Tjaart ten minste betrokke is by die sabotasie van die eilandontwikkeling; moontlik ook by die moorde. Die gemene deler is die besoedeling in die koepel. Daardie eiland word goed bewaak en die enigste manier om daar uit te kom, is vanuit die water – die brug word goed opgepas en luglangs is buite die kwessie. Kat druk die yster waarmee hy die slot oopgebreek het in sy belt en maak seker dat die Z88 se magasyn vol is. Hy laat gly ’n koeël in die loop en druk die veiligheidsknip op, sit sy selfoon af voordat hy versigtig teen die kettingleer begin opklim. As sy rigting reg is, moet hy nou onder Tjaart se woonplek wees. Hy het nie ’n lasbrief om die huis te deursoek nie, maar te hel daarmee! As Pine wil hê hy moet ’n boendoespeurder wees, sal hy maar net moet aanvaar dat hy boendoemetodes gaan gebruik. Nie dat dit deesdae vir ’n poot so maklik is om buite die wet op te tree soos wat algemeen geglo word nie, maar hy wil hierdie saak opgelos kry sodat hy kan teruggaan beskawing toe.
Kat swaai die flits boontoe; die dak is van beton, en daarin is iets wat soos ’n valdeur lyk. Hy klim totdat hy teen die valdeur kan druk … dit swaai verbasend maklik oop, daar is nie ’n slot of knip wat dit vashou nie. Kat loer deur die skrefie; die deur maak in die een of ander vertrek oop. Flou lig val oor die vloer. Die mure is geboë; dit is beslis een van die rondawels waaruit Tjaart se huis bestaan. Kat kan ’n TV iewers hoor speel – dit moet die een of ander aksiekanaal wees, want hy hoor net motorbande skree en skote klap. Kat stoot die valdeur heeltemal oop en klim daardeur. Iets pla hom, maar wat? In die lig wat by die deur inskyn, kan hy sien dat daar in die kamer twee netjies opgemaakte beddens is, ’n ou hangkas met ’n lang spieël eenkant. Wat de hel is nie reg nie? Dan tref dit hom: die klank, dit is heeltemal te hard! Niemand kyk televisie met so ’n lawaai nie. Kat sien die beweging in die kasspieël net voordat sy kop, die vertrek en alles in en om hom in ’n rooi sterrereën ontplof. Hy verbeel hom hy sien nog ’n beweging in die spieël, wat vreemd genoeg nie ook aan skerwe gespat het nie, voordat ’n genadige donkerte oor hom toesak, en hy nog net vaagweg bewus is van die koue klipvloer teen sy gesig, die warm stroom deur sy neus en ’n klewerige nattigheid onder sy kop.
39
“Ons het hom opgespoor, Vader.” Die man staan op aandag; ’n AK47 styf teen sy bors vasgedruk. Sy oё is stip teen die muur gerig, op ’n plek bokant die kop van ’n man wat in ’n stoel met ’n hoё rugleuning sit en sy kaal kop met ’n sakdoek afvee. Die man in die stoel vou sy sakdoek noukeurig op en druk dit in ’n broeksak, kyk die gewapende ondersoekend en met ’n effense frons tussen sy blou oë aan. “Van wie praat jy, broer Gerrie?” Die prominente adamsappel beweeg op en af in die lang nek as hy praat. Op sy skoot sit ’n swart kat met ’n wit neus en wit pote wat luidrugtig spin as die lang vingers hom agter sy oor krap. “Die skieter, Vader. Die een wat ons in die veld met die helikopter opgetel het.” “Waar, broer Gerrie?” “Hy is in die Vredefortkoepel, Vader. Ons man daar het laat weet.” Die kat kom kromstert regop en Vader streel sy rug ’n paar keer. “Weet die skieter waar die seun is?” “Ek glo nie, maar hy soek beslis na hom. Vra oral rond, het ’n foto by hom ook.” “En die seun se ma, al iets van haar gehoor?” “Nee, Vader. Nog g’n spoor van haar en Jimmy nie.” Vader sit die kat op die grond neer en staan op. Hy trek sy toga gemakliker oor sy skouers en stap na die venster. Buite is dit donker; net by die veiligheidsomheining is daar ligte wat in die veld in skyn. “Sy is ’n Delila, broer Gerrie, ons moet haar kry. Sy stel nie regtig in haar kind belang nie; sy wou net van die skieter ontslae raak. Gehoop hy sal net verdwyn. Sy was bang vir die storie wat hy in die hof oor haar kon vertel.” Vader trek aan die gordyne en draai om. “Hoekom sal hy skielik in die seun belangstel? Watse storie sou sy aan hom vertel het?” ’n Ruk kan net die groot
staanhorlosie in die portaal se getik gehoor word, dan vra Vader: “Lewer ons nog af in die koepel, by die boortoring?” “Nee, Vader.” Gerrie staan steeds op aandag, beweeg nie eens sy oё nie. “Ons gebruik nou ’n ander plek. ’n Eiland in die rivier by Parys.” Vader knik, sy gesig nou na die venster gedraai. “Is die wagte daar buite op hulle pos, broer Gerrie?” “Ja, Vader.” “Die magte van die bose is besig met hul opmars.” Hy bly stil, soek met sy oë asof hy die skemerdonker anderkant die heining probeer priem. “Die magte van die duisternis, die Antichris, slaan teen die poorte van die ware kerk. Ons moet die lendene omgord, broer Gerrie. Ek wil hê jy moet die wagte in die torings verdubbel. As hulle kom, moet ons gereed wees.” “Ja, Vader. Daar is nou ’n speurder van die Valke ook in die koepel. Glo een van hulle bestes. Hy is besig om te snuffel en vra die regte vrae. Dit sal nie vir hom lank neem om twee en twee bymekaar te sit nie.” “Dit is waarom ek sê: Laat ons die borswering van die geloof aantrek, laat ons ons lampe met olie vul.” Die man se oë is self twee flakkerende vlamme. “Al is ons die enigstes wat bereid is om die goeie stryd te stry, dan doen ons dit.” Hy kyk stil voor hom uit. “Die man in die koepel, die skieter, hy moet uitgehaal word, hy weet te veel. Die seun ook, hy beteken nou vir ons niks meer nie. Sy ma en Jimmy se adderlike gedrag sal ook vir hom ’n dodelike byt wees.” Vader stap stadig en wiegend, asof hy op die dek van ’n boot loop, terug na sy troon. “En dan die speurder ook. Maar dít moet met versigtigheid hanteer word.” Hy tel die kat op wat hom intussen op die stoel tuisgemaak het en gaan sit weer. “Laat weet die mense in die koepel. Moenie verwyl nie. Laat ons toorn die skieter tref.” “Ja, Vader!” Gerrie maak ’n omkeer, maar voordat hy sy hak kan inkap, laat Vader se stem hom vries. “En broer Gerrie, Jimmy en daai verderflike vrou het ons lank genoeg beproef. Soos Agab se Isebel moet die honde haar vleis van haar beendere afvreet en haar bloed in die veld oplek.”
Gerrie sien oor sy skouer die oë vlam, en hy voel die geweer sweterig raak in sy greep.
40
Dit lyk vir Kat asof hy op ’n dam dryf – ’n glansende vlak strek van onder sy wang om hom uit. Hy skommel stadig; hy voel naar en hy durf nie roer nie, want dan skiet ’n pyn van sy kop deur sy hele lyf. Hy maak sy oë toe en dan weer stadig oop. Dit is ’n taai, dik vloeistof waarin hy dryf; dit ruik muf en souterig, soos in ’n put. Hy maak sy oë weer toe en sien homself teen ’n glibberige steilte opklouter, dan met ’n kettingleer op. Hy maak sy oë vinnig oop! Die gat met die valdeur, die rondawelmure … Kat se hande is agter sy rug vasgemaak, ook sy voete is vasgewoel, en hy lê ineengekrimp op sy sy. Vanuit die aangrensende vertrek val lig oor die vloer, en iewers raas ’n kriek – dit is die enigste geluid. Wat het van die TV geword? Wie was dit wat hom by die valdeur ingewag het, Tjaart Kruger? Waar is die bliksem nou? Om hom oor die kop te foeter, vas te bind en net so te laat lê, het nie sin nie. Dalk sy duikpak en snorkel gaan aantrek. Dan is die kanse goed dat hy wat Kat is die een of ander tyd viskos gaan word. Kat skuif sy kop stadig en herken die beddens en die hangkas. Waarvoor wag die vent? Alles is in sy guns: Dit is pikdonker buite, hy is vasgemaak en daar wag ’n rubberboot by die skeur se opening, met komplimente van die SAPD. Hy kan hom in die skeur afgooi, in die rubberboot laai en met ’n gewig om sy enkels in die middel van die rivier gaan aflaai. Niemand weet waar hy heen is nie – niemand sal hom eers soek nie. Kat probeer sy arms loswoel, maar hy is met plastiekkabelbinders vasgemaak en dit sal onmoontlik wees om sonder hulp los te kom. Hy lig sy kop uit die taai bloedkol en wikkel hom oor op sy linkersy sodat hy die res van die kamer kan sien. Die deur na die middelste deel van Tjaart se rondawelstruktuur staan oop en soos Kat vermoed het, is dit waar die lig vandaan kom. Daar is nêrens enige teken van lewe nie. “Tjaart!” roep Kat gedemp, en dan harder: “Tjaart, demmit!” Al wat gebeur, is dat die kriek ophou lawaai, maar ook net ’n paar tellings lank, dan begin hy weer uit volle bors. Om harder te skreeu sal nie help nie; dit is al
laat en die naaste mense is in die plaashuis, buite hoorafstand. Dit gaan ook teen Kat se grein in om te lê en skreeu soos ’n kleintjie met ’n nat doek, veral as hy weet dit sal nutteloos wees. Maar daar is bokkerol anders wat hy kan doen. Viskos wil hy nie word nie – hy hou nie eens van water nie. “Help!” In die polisiekollege wou Kat koor sing, want die kanaries het baie minder gesweet en baie meer rondgereis. As die gewone blougatte smiddae hulle longe uitgesweet het, het dié klomp mamma-se-seuntjies op hul gatte gesit en toonlere oefen. Hulle was ook nooit sonder meisies nie. Daar is maar net iets aan ’n singende man in ’n uniform wat meisies nie kan weerstaan nie … “Help, demmit! Sit julle ore in julle gatte?” Die sammajoor wat in bevel van die koor was, het gesê Kat klink soos ’n bronstige leeumannetjie en omdat daar in daardie stadium nie leeuwyfies in die polisie was nie, moes hy maar eerder saam met die ander gaan push-ups doen. Dit sou ook help vir sy koerasie. “Help! Ag hel!” Selfs die kriek steur hom nie eens meer aan Kat se lawaai nie; hou net aan met die irriterende getjirp. Kat maak sy oё toe en sien Annie se gesig voor hom. Sal sy ooit aan hom dink? Wat sal haar reaksie wees as sy weet van die penarie waarin hy nou is? Dalk pla dit haar nie eens nie. Dalk spring sy op haar wit perd en kom red hom, soos ’n moderne Lady Godiva, net … “Fok, Kat,” sê hy saggies, “dis tyd dat jy vrou vat, jy is besig om simpel te raak. Waar de hel sal sy nou ’n donnerse perd kry?” Kat wring sy nek om sodat hy die plafon kan sien. “Help!” skreeu hy so hard dat die kriek weer ’n noot of twee mis. Hy weet nou nie meer wat die ergste is nie, die gewag om versuip te word of die irriterende bleddie getjirp. “Sjaddap, jou verdomde lawaaigat!” Maar dan is Kat se ridder op die wit perd daar! Kompleet met ’n bruin vlek op die rug wat soos ’n saal lyk en ’n kol bokant sy regteroog en ’n lang nat neus wat hy in Kat se oor druk terwyl hy fyn tjankgeluidjies maak. Hendrik Kruger se baster-foksterriër! Hy moes die geskree gehoor het en deur ’n oop deur of venster ingekom het. Op die beenvormige koperplaatjie om sy nek staan Dolla. Ja, nou onthou Kat: die reun met ’n teef se naam.
Die hond ruik ’n slag aan die bloedkol; die hare op sy nek trek regop. “Dolla,” beveel Kat, “gaan haal vir Hendrik!” Die hond draai sy kop skeef en bekyk Kat met ’n rooi tong wat uithang; draai sy kop verder as hy sy naam hoor. “Hendrik! Gaan haal hom!” Dolla trippel nader, lek Kat se gesig, uit suiwer hondeliefde. “Hei! Hei! Hei!” protesteer Kat. “Jou asem stink. Wat vreet jy, vrot vis? Gaan haal jou baas. Hendrik! Hendrik!” Die hond spring-spring ’n slag opgewonde, ruik hier en ruik daar, gee ’n vreugdevolle blaffie. Hy druk sy neus onder die valdeur in, gee ’n vies nies en besluit die stink gat in die vloer is te vervelig – die hulpelose mens is baie beter vermaak. Daar is iets aan hierdie brak wat Kat herinner aan ’n pavement special wat hy as kind gehad het. Dié hondjie wou mal word as iemand die woord “beentjie” gesê het; sy het dan voor die koolstoof gaan sit totdat iemand ’n been of iets soortgelyks opgetower het. Pine se worshond, Vlooi, gaan sit gewoonlik gatswaaiend in sy kassie as hy die naam hoor van die een of ander hondebeskuitjie wat duurder as Ann se tjoklits is. Bleddie bedorwe brakke! “Nee, man!” raas Kat terwyl hy die hond met sy kop van hom probeer wegstamp. “Wat vreet jy wat jou opgewonde sal maak? Nee! Nie lek nie! Nee! Demmit!” Dolla gaan lê stertswaaiend ’n ent van Kat af. Ook die kriek is nou stil. Wat sal jou opgewonde maak? wonder Kat. Dan onthou hy die dag op Tjaart se stoep toe Hendrik met die hond daar aangekom het … die hadida wat opvlieg en Hendrik wat die hond met ’n sjokoladekoekie teruglok. Wat het Hendrik nou weer gesê? Njammie? Koekie? Beskuitjie? Tjokkie? Wat sal hy nou met ’n hond lê en tjie-tjie! As hy net sy selfoon of pistool in die hande kan kry. Maar hy kan voel die holster onder sy heup is leeg; die broeksak waarin sy foon altyd is ook. Die foon is in elk geval nutteloos, hy het dit afgeskakel voordat hy die trapleer gepak het. En hoe skakel jy die ding aan met jou hande agter jou rug vasgemaak? Ag, hel, Dolla is sy enigste redding!
“Dolla!” Die hond se ore skiet regop en hy draai sy kop vraend. Ten minste lyk dit of hy intelligent is, nou moet hy maar net probeer. Kat hou die hond se reaksie fyn dop terwyl hy afgemete sê: “Njammies … Tjokkies … Beentjie … Beeno … Koekie …” Dolla spring op sy kort beentjies regop en gee ’n tjankblaf. Koekie! Dít was die woord! “Dolla! Hendrik! Koekie! Koekie, Dolla! Gaan haal koekie by Hendrik!” Die hond kom ruik ’n slag aan Kat, loop dan ’n draai om hom. Hy soek ooglopend die koekies. Skielik spring Dolla om en hardloop uit. Kat hoor hom buite blaf, en dan doof die geluide uit na die huis se kant toe. As Hendrik nou net nie dink die hond is simpel om in die middel van die nag te kom staan en koekies bedel nie.
41
Die moeilikheid met kabelbinders is dat jy dit nie kan breek of rek nie – dit sny diep in jou vleis in sonder om enigsins mee te gee. In die boeke maak die held altyd die toue waarmee hy vasgemaak is los deur dit te skuur teen die een of ander skerp ding, iets soos ’n bottelstuk of ’n meslem of ’n geroeste stuk blik. Gewoonlik gebeur dit ten koste van een van die held se polse, omdat sy hande agter sy rug vasgemaak is en hy nie kan sien wat hy doen nie. Hel! Dit is ’n wonder dat daar nog helde oor is, want as daardie skerp ding jou polsslagaar tref, bloei jy leeg soos wyn uit ’n papsak. Kabelbinders laat hulle ook nie maklik deurskuur nie, dit moet met ’n skerp lem gesny of geknip word, met genoeg druk op die lem. Kat wikkel sy neus en bolip; sy snorpunte jeuk en neuk om in sy mondhoeke in te kruip. Die toestand is deur Dolla se oopbeksoenery vererger; dit voel asof die brak al sy snorbaarde in sy mond in gelek het. Dolla is nou al ’n hele ruk weg, en omdat Kat nie alle hoop op ’n wit brak met ’n bruin kol op sy rug wou vestig nie, het hy met ’n gewikkel en gesukkel tot in die middelste vertrek gekom. Die groot skuifdeur is effens oop en dis waar Dolla in en uit is. Kat soek deur die kamer, daar moet iewers iets wees wat hy kan doen – miskien deur die skuifdeur wurm en op die stoep sy longe gaan lê en uitbulder, dan sal hulle hom dalk hoor. Dalk kan hy in die klipperige paadjie afrol na die huis toe. Op Tjaart se werktafel begin ’n telefoon plotseling lui. Kat sien die foon tussen al die kwassies en potjies verf. Dis ’n landlyn, maar vir hom kon die ding net sowel op ’n ander planeet gewees het. Kat stuur ’n gebedjie op dat dit Hendrik moet wees. Ná ’n ruk hou die gelui op en kort daarna klink die luitoon van ’n selfoon van iewers in die huisie op. Dit moet Tjaart s’n wees … Iemand soek hom met ’n seer hart – dit moet iemand wees wat dink hy is by die huis en eers die landlyn probeer het. Deur die oop deur kan Kat nou Tjaart se voertuig voor die deur sien staan – die lig val ’n hele ent uit op die terras. En dan is Dolla weer daar, in volle vaart oor die grasperkie en by die glasdeur in. “Tjaart!” Vanuit die donker kom die stem – Hendrik s’n! “Tjaart! Is jy oukei?”
“Hendrik!” bulder Kat bly. “Kom in! Dis ek, Kat Harmse!” Hendrik het ’n kakiekleurige bosbaadjie oor sy gestreepte pajamas aangetrek; sy voete sonder kouse en sonder om die veters vas te maak in ’n paar stewels gedruk, die groot vilthoed op sy kop. Hy druk ’n dubbelloop-haelgeweer voor hom by die skuifdeur in. “Kolonel!” roep hy. “Wat de donner gaan hier aan? Waar’s Tjaart?”
Beste kolonel Harmse Kat hou die brief, wat op ’n vel met die vakansieoord se briefhoof gedruk is, met ’n haartangetjie vas. Geluk! Jy het toe ook die wonderlike fontein van Wonderfontein ontdek. Ja, dit was die koepelbewoners se geheime toegang tot die rivier lank voordat hier wit mense was. My grootjie het seker die voordeel van die rotsskeur gesien en sy hartbeeshuis daar staangemaak. Miskien het hy ’n bietjie goud ook probeer myn, hy was immers in sy jong dae ’n prospekteerder in die Karoo. Met die oog op die Matabeles se aanvalle was dit vir hom nodig om ’n veilige toegang tot water te hê. Toe ek my huis bo-op die oorspronklike ou hartbeeshuisie se fondasies gebou het, het ek die gat onder ’n groot plat klip ontdek. Ek het dadelik die moontlikheid gesien vir ’n “geheime” agterdeur. Ek was jonk en avontuurlustig, het gedink ek sal dit vir iets waaghalsigs nodig kry en het niemand daarvan vertel nie. Ja, ek is verantwoordelik vir die sabotering van die ontwikkeling op die eiland. Ek het net gevoel dit is my plig om hierdie wonderlike deel van die Skepping te help teen die gewetenlose ontwikkelaars vir wie die natuurskoon irrelevant is. Hierdie slag wou ek die kers se vlam wees, maar ek is bevrees, die besoedelde water van die ou Vaalrivier het my krag uiteindelik geblus. Met behulp van my “geheime agterdeur” kon ek voorgee dat ek op plekke was waar ek nie was nie en niemand het my ooit met die sabotasie verbind nie. Nou is daar egter ’n onskuldige mens dood in die ontploffing en dit maak van my ’n moordenaar. Toe jy die veiligheidsdeur onder by die rivier oopgemaak het, het ’n alarm my gewaarsku en ek het vir jou gewag. Ek het geweet jy is op my spoor in verband
met die ontploffing. Jammer vir die knop teen jou kop en die cable ties was ook die enigste uitweg, ek hoop dit was nie te styf nie. Iemand sou jou wel die een of ander tyd kry en losmaak. Dankie vir die gebruik van die rubberboot en die ankertou wat, soos jy kan sien, ek goed kon gebruik het. ’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand – klink dit bekend? Maar een ding moet jy weet: Ek is nie die koepel se moordenaar nie. Daarvoor sal julle wyer moet kyk. Kyk veral na dwelmhandelaars wat die koepel as ’n veilige afsetgebied gebruik en vir wie die geheimhouding daarvan belangrik is. Dit is my eie opinie – ek weet nie regtig wie daarvoor verantwoordelik is nie. Sê asseblief ook aan my ouers dat dit die enigste uitweg was. Ek moes dit seker al lankal gedoen het – ek het myself probeer verontskuldig deur te dink dat ek nog steeds ’n verskil kon maak, al was dit net teen die vernietiging in die koepel. Tjaart Kruger
Fokkit! Kat vryf oor sy gesig, gee sy snor ’n paar veë met sy kneukel, lek sy wysvinger en duim nat en gee ingedagte die snorpunte ’n paar draaie. Hy staan op van die stoepmuurtjie voor Lekker Rus se istrasieblok en stap weer terug na Tjaart se kantoor. Tjaart hang aan sy nek aan die rubberboot se ankertou wat hy aan een van die grasdak se ronde balke vasgemaak het. Hy moes op die lessenaar gestaan het om die tou om die balk te knoop; toe het hy gespring. “Fokkit,” sê Kat nog ’n maal en haal sy selfoon uit. Dit is wragtag weer soos die Hof-onder-die-Kruis-bende!
42
“Stien!” Kris kom agter sy stem aan by die agterdeur ingestorm. “Waar de hel is my groot senterpinkatrol?” “Kris Freislich …” Stien sit ’n glasbak met vleis en gebakte aartappels op die kombuistafel neer en gaan sit op ’n stoel. “Moet jou nie staan en simpel hou nie! Wat sal ek nou met jou ou simpel katrolle uit te waai hê; ek vat nie eens aan daardie stink vissak van jou nie. Kom eet nou eers.” Sy gee die vatlap vir Baby aan. “Toe, kry jy die rys en pampoen. Jy lê nog net die hele dag in jou kamer en sulk.” “Hoekom moet ek? Laat Boeries, hy doen nooit iets nie, ek wil nie eens eet nie!” “Baby!” bulder Kris weer. “Maak soos jou ma sê! Ek is moeg vir jou dikbek die afgelope tyd, demmit!” Baby staan brom-brom op, gaan haal die kos en plak dit op die tafel neer. “Daardie katrol is ’n Penn forty-nine en kos ’n paar honderd rand. Nou die dag was dit my groot Bosch-hamerboor, die ding is ook net weg.” Boeries skep vir hom kos in. “Daardie motorhuis sit te na aan die straat, Pa, en die hek maak nie behoorlik toe nie,” sê hy terwyl hy oor die tafel leun om by al die opskepbakke uit te kom. “Julle moet die garagedeur toehou, hier’s ’n klomp tsotsi’s wat in die strate rondloop vir kwaadgeld.” “Baby, hoekom eet jy nie?” Stien tel ’n bord op. “Moet ek vir jou inskep?” “Ma, ek’s nie honger nie. My kop is seer en ek het ook nie lekker geslaap nie.” Boeries kyk vraend na sy suster. “Wat kyk jy? Het jy nog nie ’n mens gesien nie?” Baby spring op, smyt die vatlap op die tafel neer en storm die gang af. “Baby!” bulder Kris agter haar aan. “Kom sit en eet!” As haar kamerdeur met ’n
slag toeklap, staan Kris op en haal sy belt af. “Sy’s verdomp nie te groot om geneuk te word nie …” “Los haar tog, Kris,” keer Stien. “Ek weet nie wat deesdae met die kind aangaan nie.” Sy sug diep. “Slaan sal nie help nie, ek het al probeer.” Kris gaan brommend sit. “Dis vandat sy haar lisensie gekry het. Sy ry deesdae mos die wêreld vol met die trippeles. Soos die bleddie koningin van Engeland in ’n koets of ’n ding, dis die probleem.” Hy beduie met sy vurk. “Jy moenie meer daai kar vir haar gee nie, Stien, sy gaan haar nek breek.” “Nou vir wat het sy die lisensie gekry? Moet sy die ding raam? Laat sy eerder hier in Virginia oefen, hier is minder karre.” Boeries, wat die hele episode stilswyend sit en aanskou het, benut ’n seldsame stilte in sy ma en pa se geredekawel: “Gaan sy vanaand weer uit?” “Daar’s glo ’n twenty-first in Harmonie; sy’t gesê sy wil gaan.” “Dis die bleddie probleem,” grom Kris weer met ’n mond vol vleis en pampoen. “Al die paarties.” “Een van die dae begin die skool weer en dan is paarties op ’n ent, Kris. Dan is dit matriekeksamen, gun haar ook iets!”
43
“Het jy die geld gebring?” Baby knik, trek haar mond vermakerig. “Yes, ek het die outoppie se ghrênd katrol vanmiddag gepawn. As hy dit agterkom, sal hy seker uitfreak en ’n fit vang!” Sy sit die Datsun in ’n laer rat vir die opdraande ná die brug en loer na die jong man langs haar. “Volgende keer is jou beurt, Cecil, ek kan nie my pa se garage leeg steel nie.” “Moenie worry nie, ek kry Saterdag my sakgeld. Dit sal genoeg wees vir twee straws.” Hy trek sy swart klinknaelbroek se nou pype gemakliker oor die swart stewels met die skerp ysterpunte. “As dit moet, sal ek iets kry om te verkoop. ’n Paartie sonder ’n sniff aan ’n globe is nie meer ’n paartie nie.” “Dis so cool daai gevoel van heelnag te kan aanhou. Ek sal sukkel sonder dit.” Baby dink aan Boeries se ouvroustories oor die wit kristalle. Sy het dit al ’n paar keer gebruik sedert Clinton haar in die koepel daarmee laat kennis maak het. Sy weet sy kan daarsonder klaarkom as sy wil, maar sy wil nie. Hoekom moet sy iets uitlos wat haar so goed laat voel? Daarsonder is die lewe maar vaal en vol worries, veral met die graad 12-eindeksamen om die draai. “Waar kry ons die goed vanaand?” vra Baby sonder om na Cecil te kyk. “Ry Saaiplaas se shopping centre toe. Vat die mynpad. Dis veiliger tussen die kampongs deur.” “Wat is die prys?” “Ag,” Cecil wikkel hom gemakliker in die sitplek in, sit een van sy skerppuntskoene op die Datsun se paneelbord, “it’s awesome stuff. Kom uit Natal uit. Nie opgekook in ’n ou se kombuis nie. Altyd ’n bargain. Seker so vyftig rand vir ’n straw.” En dan voeg hy by: “Jy moet twee kry. Dat ons op ’n high is as ons by die paartie kom.” Wanneer hulle oor die R73 ry, loer Baby in die truspieël. “Daar’s ’n motorbike se
lig wat al van Merriespruit af agter ons is.” Cecil trek die leerbaadjie se kraag hoër op om sy ore. “Aag, fok hom. Hy sal seker nou sy ry kry. Draai eers hier regs, dan wys ek jou waar die dealers bly.” Baby volg Cecil se aanwysings, haar oë bekommerd in die truspieël. Boeries ry ’n motorfiets, en hy is kapabel en … Maar daar is die lig nou weg. Ná ’n ruk ontspan sy, die lig het in die rigting van die winkelsentrum afgedraai. Seker maar net iemand op pad kafee toe. “Hier’s die plek. Ry net easy like verby, moenie staar nie.” Die huisie is een van die tipiese vierkantige rooibaksteen-mynhuisies met die kenmerkende stoep. Hulle is almal gebou toe die Saaiplaasmyn begin produseer het. Die myne het intussen toegemaak en die huise is verkoop aan privaat mense, meestal uit die laer inkomstegroep. Die woonbuurt het vervalle geraak, die oop spasies tussen die huise is oorgroei met lang gras en van die eens trotse tuintjies het nie veel oorgebly nie. Stukkende motors staan in ’n paar voortuine en oproes, musiek blêr by vensters uit en ’n paar jong seuns skop ’n sokkerbal in die halfdonker straat rond. Die huis wat Cecil uitwys, is donker en stil, in die drukkende hitte is die vensters wawyd oop. “Hier’s niemand nie,” sê Baby nou effens onseker. “Moet jy nie worry nie, ou girl. Hulle is daar en hulle check ons uit. Hierdie perde speel nie. Hulle skiet sommer. Die pote sukkel nie eers met hulle nie. Hulle het daai teppit, Joe Schoombie, wat onsetter is by tweeskag, se arms gebreek. Laas week. Die poephol het gedink hy kan op skuld snuif.” Baby voel ’n koue rilling teen haar rug af. Die geweld is die een ding wat sy van die dwelmbedryf haat. Sy bly daar uit, betaal eerder en bly heel, sy het al te veel van dié stories by die skool gehoor. Nog net ’n paar pype dan moet sy in elk geval begin swot en dan is daar nie meer tyd vir sulke dinge nie. Sy kan dit enige tyd los, sy weet dit. Dis nie haar baas nie, maar vanaand het sy dit nodig. Sy sit in hierdie swart gat van ’n depressie en sy moet daar uit. Die wit kristalle sal help. “Draai hier links dat ons by die mall kan kom,” beduie Cecil. Baby kyk vinnig na hom – daar is nou ’n opgewondenheid in sy stem wat sy nie
ken nie. Sy moet darem erken dat sy ook uitsien na daardie eerste rush wat die wit dampe gee. Die winkelsentrum kan nou nie juis as ’n mall beskryf word nie, dis meer ’n klomp winkels in die veld wat deur die jare hulle glans verloor het. Tralies of afrol-staaldeure is voor die meeste vensters aangebring, baie van die winkels staan leeg. “Ry om na die agterkant. Dit is donker daar.” Baby draai stadig in ’n agterstraatjie in. “Hou stil. Net hier. Flits jou ligte drie keer vinnig en dan twee keer stadig.” Baby maak so. Niks gebeur nie. “En nou?” “Sit net stil. Hou die geld gereed. Maak jou venster oop.” Nadat hulle ongeveer tien minute gewag het, is daar skielik die skerp lig van ’n flits in Baby se oë. “Hundred rand!” Dis ’n growwe stem; die asem warm teen haar oor. Sy kan ’n mengsel van drank en knoffel en vrot tande ruik. “Quick!” Baby gee die noot deur die venster aan; twee plastiekstrooitjies word op haar skoot gegooi. Dan bars die hel los. ’n Polisievangwa kom skuiwend en met flitsende ligte en skreeuende remme voor die Datsun tot stilstand. Twee manne in uniform spring uit, pistole in die hand. Baby is vaagweg bewus daarvan dat die asiersdeur oopgegooi word en dat Cecil op die donker winkelstoep weghardloop, sy skoene se hoë hakke wat klap op die sement. Die gesig by haar venster is weg; sy sien ’n figuur in die lang gras langs die straat inhardloop en in die donkerte wegraak. “Stop! Police!” ’n Skoot klap. Baby druk haar ore toe. Nog ’n skoot. Iemand gil. Dan is daar ’n pistoolloop teen haar kop. “Get out! Get out! Put your hands on the bonnet and spread your legs!” Baby klim lam geskrik en met haar hande bewend in die lug uit. Sy maak presies soos die stem sê. Harde hande vee oor haar lyf. Sy sien dat die twee strooitjies
tik uitgeval het en by die polisieman se voete lê. Nog ’n polisieman kom pistool in die hand aangehardloop. “Did you get the bastard?” “Aikona, it’s too dark and the grass is too long. I think I nicked him, though. What have we got here?” Die polisieman beduie met sy pistool na Baby. Sy staan steeds bewend met haar hande op die warm enjinkap, haar voete ver uitmekaar geplant, snikke ruk deur haar lyf. Die polisieman wat die skote geskiet het, tel die twee tikhouers op en druk dit in sy sak. “Cuff her, Sipho.” Baby se hande word hardhandig agter haar rug ingedwing en die boeie klik om haar gewrigte. Sy huil nou onbedaarlik; die koue staal sny in haar polse in. “Dis te styf! You’re hurting me!” “You! Shaddup! Stop the damn racket!” “I want … ek … ek wil my broer bel,” sê sy snikkend. “Ja, ja. Later. We must first get you to the station and book you. Get in the van.” “No, please. My brother. Asseblief. Hy is Boeries Freislich en … hy is ’n kaptein …” Die twee polisiemanne laai haar hardhandig agter in die vangwa. “This is possession, young lady. It is a serious crime. You are looking at a couple of years, so stop your damn wailing. You are one of those damn rich juvenile delinquents that think they can get away with everything. I’m going to throw the bloody book at you.” Die deur van die vangwa klap toe en Baby hoor die knip skuur en knars. Sy gaan sit op een van die bankies. Wat gaan haar pa en ma sê? En Boeries. Hy kan sy werk verloor. Hy kan mos nie ’n kaptein wees as sy sussie in die tronk sit nie … Die vangwa trek met skreeuende bande weg; Baby val van die bankie af en haar kop klap teen die staalvloer. Sy voel-voel na haar selfoon in haar denim se gatsak. Dit lê nog in die Datsun! Wat gaan van die kar word? Wat gaan haar ma doen daarsonder? “Ag, Heretjie tog, help my!” bid sy wanhopig.
In die aanklagkantoor sit twee dronkies met hangende koppe op een van die bankies. Die een het bloed aan sy gesig en die ander braaksel op sy hemp. Op ’n ander bank sit ’n man met ’n bebloede verband om sy kop en kerm. By die toonbank staan ’n dronk vrou en pleit by ’n polisieman met ’n harde gesig om haar nie toe te sluit nie, haar twee kinders is alleen by die huis en haar man in Zonderwater. Die hele plek stink na suur drankasems, sweet en braaksel. Die polisieradio maak aanhoudend blikkerige geluide wat meng met die lawaai van die mense. Een van die polisiemanne lei Baby aan die arm by almal verby na ’n tafel in die hoek. Hy haal die boeie af en neem haar vingerafdrukke. “Lock her up, I will book her later.” “Nee!” Baby steek vas, rem aan die hand van die beampte wat haar aan die boarm beetgekry het. “Ek wil met my broer praat, ek is geregtig op ’n oproep!” Sy skreeu om haar bo die lawaai in die aanklagkantoor hoorbaar te maak. “Wie is jou broer?” Die polisieman wat haar vingerafdrukke geneem het, troon bo haar uit. Dit is ’n sersant, sien sy nou. “Kaptein Boeries Freislich. Bel hom, asseblief.” Die sersant kyk vraend na die man wat haar aan die arm beet het en skud sy kop. “We don’t know him.” “He … He’s a policeman in … in Welkom. Organised Crime, I think.” “We don’t know a Boe … Boer …whatever. You say he is from the Welkom station? This is Virginia. I don’t know him.” Hy knik vir sy kollega. “Lock her up.” Baby probeer losruk. Sy skreeu dat hulle asseblief moet bel, skreeu haar pa se adres en telefoonnommer. “Bel net, please! Just phone them!” Sy probeer teen die muur van die gang vasskop, maar word hardhandig vorentoe gesleep en by ’n traliedeur ingestamp. Die deur slaan toe en die sleutel word in die slot gedraai; Baby gryp die tralies en trek haar kop teen die koue staal vas. Die trane drup op haar bors, op die smerige vloer. Sy het nog nooit in haar lewe meer na haar ouers verlang as nou nie.
“Haai, skattie, dis nie so bad hier nie.” Baby swaai om na die hees vrouestem agter haar. “Ons kan dit regtig baie nice maak hier vir jou.” Op ’n bankie teen die muur sit twee vroue. Hulle kort minirokkies het opgeskuif teen hul dye, by elk is ’n stuk been sigbaar tussen roksoom en gekleurde netkouse. Hul bloese is ’n paar nommers te klein en oopgeknoop om die peulende borste te wys. Baby het dié soort vrou al baie op straathoeke gesien as dit donker word; sy weet wat hulle vir ’n lewe doen. Die lang een met die blonde pruik kom heupswaaiend nader gestap en sit haar arm om Baby se skouers. “Kom nou, skattie. Relax, my girl. Dis nie so erg nie.” Baby ruk haar los, retireer tot in ’n hoek, sak met haar rug teen die muur af totdat sy die sementvloer onder haar boude voel. “Relax, honey. Ons het nog heelnag tyd, my ding. Agnes, daar,” sy wys met haar vinger na die kleiner enetjie op die bank, “se speciality is om dit nice te maak vir sulke jong goedjies soos jy.” “Los my uit!” gil Baby. “As jy aan my raak, skree ek!” Die groot vrou met die blonde pruik draai stadig om, lag vermakerig en gaan sit langs die kleinerige een op die bank. “En waarvoor is jy hier, my mooi ding? Tik, dagga, soliciting of shoplifting?” Sy beduie in die gang af. “Daai pote voel fokkol vir jou, my girl. As hulle wil slaap, sit hulle die lig af en maak daai deur toe. Solank hulle net hulle cut later kry, voel hulle niks vir ’n druggie soos jy nie. Jy moet net perform. A young piece of arse like yours, my dear, is ’n groot genoeg cut vir big sarge Julius. Dis nou as Agnes hier met jou klaar is.” Agnes sit met haar rastalokke en speel, ’n vreemde blik in haar donker oë. Sy stamp aan die blonde een. “Lilian, dink jy ek kan maar try? Did you see those firm tits?” Die grote knik, en Agnes kom sit langs Baby op die vloer. “Nice watch.” Sy streel oor Baby se kaal arm en vat aan die goue horlosie wat Baby vir Kersfees by haar pa-hulle gekry het.
Baby ruk haar arm weg, haal die horlosie af en gee dit vir Agnes. “Vat die ding! Los my net uit.” Sy is seker dat Agnes vigs het. “Ek laaik jou ringe ook, skattie.” Baby haal die ringe af en gee dit vir haar. “Vat die goed, gee net pad van my af!” Agnes streel met haar hand oor Baby se sagte hare. “You’re such a lovely girl.” Tussen die snot en trane en angs is Baby darem nog Kris Freislich se dogter. Sy ruk haar kop weg en klap die maergat ’n hou deur die gesig wat haar laat wegrol van Baby af. Dan is Lilian ook by, en met haar groter gewig druk sy Baby vas, druk haar hande op die sementvloer vas. ’n Donker skaduwee val oor hulle. Die sersant staan hande in die sye by die traliedeur, ’n glimlag op sy gesig. “Lyk my dit gaan lekker jollie hier. Is she behaving badly?” Lilian sit terug op haar hurke. “Everything is fine, Sarge.” Die polisieman knipoog. “Okay, call me when she’s ready. I’m going to put out the light now.” “Jy kan dit nie doen nie! Asseblief, hulle sal my verkrag en …” Die deur klap toe. Die lig wat afgeskakel word, is die enigste antwoord op Baby se pleidooi. Baby is bewus van die twee vroue baie naby aan haar. “En nou, skattie, showtime! Gaan jy self strip of moet ons dit vir jou doen?” Baby skarrel agteruit totdat haar rug die muur tref; probeer haar dan so klein moontlik maak. “As julle my los, sal ek betaal. My pa sal betaal … as ek hier uitkom. Ek … ek is onskuldig hier ingedruk en sal môre uit wees.” Sy begin weer sag huil. “Moet my net nie seermaak nie.” “It’s not for us to decide, honeybunch. The sarge is die main partner in hierdie deal.” Lilian druk Baby se wange tussen duim en voorvinger sodat haar mond tuit. “Hoekom roep jy hom nie, jy kan hom self vra?” Baby probeer losruk, maar dan ruk Agnes haar voete onder haar uit. Sy beland op haar rug en haar kop klap teen die sementvloer. ’n Swaar gewig druk haar
bene vas en sy voel hoe gulsige vingers haar denim se knope begin losmaak. Sy ruik sweet en walglik soet parfuum, liggaamshitte. Sy probeer die gewig van haar bene afskop; haar hande losruk uit die greep wat dit bokant haar kop vashou. ’n Hand skuif onder haar T-hemp teen haar maag op en onder haar bra in. “Nee, nee! Asseblief!” Baby ruk haar kop en bolyf heen en weer op die koue sement. Skielik is dit lig. “Wat de donner gaan hier aan?” Dis ’n stem wat sy ken! “Boeries!” gil Baby. Die twee slette laat haar los en skarrel na hul bankie toe; Baby spring regop. “Boeries, dankie tog!” Sy trek haar klere reg terwyl hy die traliedeur oopsluit. “Hulle … hulle wou …” “Kom, Baby, laat ons net eers hier wegkom.” “Hulle het my juwele ook.” “Gee,” sê Boeries en stap dreigend op die twee af. Lilian haal die horlosie en ringe uit haar bra. “Kom, Baby.” “Hulle het my … my amper ge … gerape!” Baby se paniek word nou ’n woedende verontwaardig. “Gaan jy dit sommer netso los?” “Kom, Baby, ons kan dit later uitsorteer. Laat ons weg wees voordat sersant Julius besluit om jou te boek. Soos dit is, moes ek mooipraat. Kom net.” Buite is die wind koud op Baby se nat, betraande gesig. Haar lyf bewe nog van die skrik en sy loop moeilik, asof daar nie krag in haar bene is nie. Wat met haar kon gebeur het, dring nou eers tot haar deur … As dit nie vir Boeries was nie! Sy kon vigs of sifilis opgedoen het. Boeries beduie na die trippel-es wat ’n ent van die deur af onder ’n boom staan. “Klim in, ek kom nou.” “Hoe kom die kar hier?”
“Ek weet nie. Hulle moes iemand gestuur het om dit in te bring. Toe, klim in.” Boeries klap die deur agter Baby toe en stap terug aanklagkantoor toe. Binne leun sersant Julius glimlaggend met sy arms op die toonbank. Agnes en Lilian is besig om hulle grimering met snesies af te vee. “Dankie, julle drie,” sê Boeries. “Julius, ek skuld jou big time.” Julius lag. “Vir SAPD-beamptes is hierdie twee nogal nie slegte slette nie. Ons kan hulle van nou af undercover ook gebruik.” Hy sug, vee met sy hand oor sy oë. “As dit net gaan help.” “Waar is die twee strooitjies tik?” Julius kyk betekenisvol na Boeries. “Watter tik?” vra hy, en as Boeries sy asem in dankbaarheid hard uitblaas, sê hy. “Maar, Boeries, as sy weer …” Boeries knik. “Dankie, ek verstaan, hopelik sal dit nie nodig wees nie.” Agnes vat aan haar wang. “Daardie klap was nie veronderstel om in die script te wees nie.” “I hope there are not going to be repercussions,” sê Lilian van agter ’n snesie waarmee sy lipstiffie probeer afkry. “What we did is not exactly legal.” “There won’t be. Nie as haar pa met haar klaar is nie.”
“Wat nou?” het Baby op pad huis toe aan ’n stugge Boeries gevra. “Moet ons vir Pa en Ma hiervan sê?” “Ja, ons moet,” het hy bars geantwoord en die radio harder gedraai. “Asseblief, Boeries!” “Asseblief se gat! Ek hoop hy donner jou dood. Jy is ’n verleentheid vir die Freislichs en ek is skaam om jou my suster te noem.” Ná ’n ruk se stilte het hy effens bedaarder vervolg: “Vertel alles, dis my raad aan jou. Of ek doen dit.” En sy het alles vertel, daar om die ite-tafel in die kombuis. Van die tik en
die dagga, van die partytjie waar Boeries haar kom haal het tot waar sy amper verkrag is in die tronk. Haar oë was die hele tyd op haar pa se gesig; sy kon haar snikkende ma nie in die oë kyk nie. Boeries het met gevoude arms teen die opwasbak aangeleun, haar met valkoë dopgehou en seker gemaak dat sy niks van haar skandes uitlaat nie. Net van die tikrokery in die koepel het sy nie vertel nie. Ook niks van haar gevoelens vir die lewensredder nie. Dit kon sy nie doen nie, want vir Clint wil sy nie verloor nie. Sy is lief vir hom en in hierdie deurmekaar gemors waarin haar lewe nou is, het sy hom nodiger as ooit. As haar pa van die koepel moet hoor, veral van daardie laaste aand … Terwyl sy gepraat het, het sy gewag vir haar pa se uitbarsting – dat hy vloekend gaan opspring, sy belt uit die broek se lussies gaan sukkel en die houe op haar gaan laat reën, waar hy ook al ’n opening kry. Wat gebeur het, was baie erger. Groot trane het oor sy bruingebrande, ongeskeerde wange geloop. Toe sy klaar vertel het, het hy opgestaan en sy gesig met sy harde mynershande afgevee en deur toe gestap; sy dop vergete op die tafel, die ysblokkies lankal gesmelt. By die deur het hy omgedraai en met die deurknop in sy hand gesê: “Dis nou verby, my kind, dis nou fokken klaar.” Sy stem het gekraak. “Ek wil fokkol weer hiervan hoor.” Hy het die deur agter hom toegeklap. Nou sit sy in haar kamer en staar deur die venster na waar haar pa op ’n ou buiteband onder die groot populier sit en kyk na die sterre terwyl hy die een sigaret na die ander rook. Kort-kort vee hy met ’n hand oor sy oë. Haar ma is lankal kamer toe, sonder om ’n woord te sê, en Boeries het op sy Kawasaki die nag in verdwyn. “Jy is ’n verleentheid vir die Freislichs en ek is skaam om jou my suster te noem,” het hy gesê. “Jy is ’n verleentheid vir die Freislichs …” Het haar pa haar liewer dood gedonner, dan sou dit beter gewees het vir almal.
44
Boeries voel hoe die adrenalien deur sy are pomp; daardie lam tinteling in sy bene voordat die aksie begin. Hy vee die sweet van sy hande af en hou die pistool teen sy bors. Al die ure se gesit in die ongemerkte voertuig is verby, die koue koffie en toebroodjies met korsies wat te hard geword het, die beplanning … Nou is dit net die uitvoering van die plan. Gepraat het Baby gepraat. Vir hulle selfs hierdie huis in Saaiplaas, Virginia se noordelike “voorstad”, kom uitwys – die een waaraan Keppies se oliekopseun haar bekend gestel het. Hulle het die plek begin dophou; die skielike toename van dwelmgebruik in die Vrystaat, veral hier in die Goudveld, laat hulle soms na strooihalms gryp. Daar moet ’n nuwe bron van dwelms in die Vrystaat wees, waar weet hulle nog nie. Die SAPD was dus maar net te bly vir Baby se wenk, en sy was reg, die plek word deur onwettige immigrante bedryf. Boeries staan met sy rug teen die muur van die vervalle mynhuis, reg langs die voordeur op die klein stoepie. Dit is tweeuur die oggend; die huis is selfs stiller as die nag. Die maan se naalddun puntjie steek net-net agter ’n groot wolkstapel uit. Die taakmaglede is besig om stelling in te neem, en Boeries luister na die naggeluide: die geblaas van die myn se groot bogrondse waaiers; ’n ertstrein onderweg na die smeltery wat een maal toet; ’n groot motorfiets wat in Voortrekkerlaan op kerm; die veraf geblaf van ’n hond. Dan die stem in sy oorfone: “Ons is reg, Boeries, julle kan maar laat waai.” Dit is kaptein Carl du Plessis, bevelvoerder van die taakmag, se stem. Boeries knik vir die man met die sestienpondhamer, beduie met sy pistool se loop na die deur. Die hout en glas het nooit ’n kans gehad nie en Boeries storm deur ’n reënbui van glasstukke. Hy hardloop soos afgespreek in die gang af na die kombuis; dis waar die dwelms vermoedelik gestoor word. Agter hom hoor hy hoe deure oopgeskop word; hy hoor die uitroepe van mense wat wakker skrik van die skielike lawaai en die skerp lig in hul oë en ’n R5 se loop teen die kop. Die kombuis se lig brand oënskynlik permanent, dit het hulle agtergekom toe
hulle die plek dopgehou het. ’n Man sit by die tafel en slaap met sy kop op sy arms, en toe Boeries instorm, spring hy op, heeltemal buite weste. Boeries sien die skrik in die man se oë, maar dan ook die swart oog van die pistool wat van onder die tafelblad opswaai. Die oog spuug byna onmiddellik vuur; agter Boeries spat ’n kombuiskas se skuifdeur in skerwe, en dan slaan die volgende koeël in Boeries se koeëlvaste baadjie vas, slaan sy asem uit en slinger hom teen die kas vas van waar hy soos ’n sak vol hondekos grond toe val. Die linoleumvloer se verslete diamantpatrone en duisende glasskerwe is millimeters van sy neus af. Nog ’n koeël tref die onderste houtdeurtjie van die kombuiskas; potte en panne klater. Boeries kan die man se bene en voete onder die tafel sien; hy swaai sy arm oor die vloer en trek die sneller van die Z88 so vinnig as wat die wapen dit toelaat – hulle sê mos skiet laag, dis nou die manne wat hierna in die kommissie van ondersoek sal dien. Die eerste koeël skram van die tafel se staalpoot boontoe en veroorsaak dat die berg vuil skottelgoed op die wasbak nie meer gewas sal hoef te word nie. Die tweede doen dieselfde met die skarminkel se knie en ruk sy been onder hom uit. Die man gryp na sy knie en die stoel gly onder hom uit. Hy probeer in die val sy pistool na Boeries swaai, maar in sy wydgesperde oë kan Boeries sien hy weet hy is te laat. Die laaste skoot uit Boeries se pistool tref hom in die voorkop – ’n rooi oog tussen die man se twee wit oogballe. Sy pistool kletter dof op die linoleum en die man rol met ’n sug op sy rug. Boeries staan versigtig op, beweeg om die tafel met sy pistool op die man gerig, al weet hy dit is nie meer nodig nie. Agter hom in die huis hoor hy mense skreeu; hy ruk as nog twee skote klap, maar dan is dit stil. Hy kniel by die man wat met sy kop teen die afgeskilferde wasbakkas lê en druk sy vinger teen sy keel. Daar is geen polsslag nie. Hy staan op, haal ’n paar keer diep asem en voel aan die plek waar die koeël sy baadjie getref het. Môre gaan hy ’n moerse bloukol hê. Oral op die kaste staan bokse en plastieksakke. Hy maak die naaste een oop en sien dis vol klein sakkies met ’n wit poeier, sommige het wit kristalle in. Langs die kas is swart plastieksakke teen die muur gestapel. Die boonste een is oopgesny en Boeries kan die kenmerkende groen blare, pitte en stokkies van die daggaplant sien. Kaptein Carel du Plessis storm met ’n R5 gereed by die deur in. Hy steek vas, ontspan as hy vir Boeries sien. “Behalwe vir ’n paar halfgerookte zolle en twee tikpype is daar niks dwelms binne nie,” beduie hy oor sy skouer. “Hoe lyk dit hier?”
Boeries beduie met sy pistool na die bokse en sakke dwelms. “Hier’s genoeg, Doep. Ek moes dáárdie een oortuig om nie verder op my te skiet nie.” Doep stap om die tafel en roer die man met sy voet. “Hy’s moer toe, orraait. Is jy oukei?” Boeries knik en wys na die gat in sy veiligheidsbaadjie. “Net ’n bietjie gekneus. Sal ’n ruk nie lekker kan hoes nie. Gelukkig was dit ’n kleinerige kaliber.” “Hel!” Doep druk met die R5 se loop teen een van die kartonhouers. “Dis ’n groot storie dié. Hierdie goed is baie geld werd. Waar de donner kom dit nou so skielik vandaan? Die Vrystaat was mos nog nooit so ’n groot afsetgebied nie.” Boeries haal sy skouers op. “Dis deesdae ’n algemene probleem. Dit lyk of die Vrystaat en Gauteng geteiken word.” “Boeries, ek sê vir jou daar’s iewers hier naby ’n plek wat die stront vervaardig. Ons moet ons horisonne net ’n bietjie wyer trek, soek na die verdomde oorsprong.” Hy beduie met sy geweer om hom. “Hierdie bust sal hulle hard slaan, maar dis nie genoeg nie, iemand anders sal net by hierdie spul werfetters oorneem.” Sersant Julius, die een wat Baby help arresteer het, kom met vier meisies, nie een ouer as sestien nie, by die agterdeur in. “Kaptein,” sê hy, “kyk wat kry ons in die buitekamer.” Vir Boeries lyk dit soos jong meisies uit Thailand of die Filippyne. Hulle lyk verwaarloos en elkeen het ’n kombers oor die skouers wat hulle krampagtig voor hulle vasklem. Dit lyk nie of hulle meer as dit aanhet nie. Die oë in die fyn gesiggies is verskrik en verward, dit lyk nie asof hulle weet waar hulle is of hoe hulle daar gekom het nie. Hulle bondel teen mekaar aan asof hulle krag uit mekaar se aanraking kan put; maak fyn tjankgeluidjies soos ’n klomp hondjies wat te vroeg van hulle ma af weggeneem is. Carl du Plessis kyk fronsend na die sersant. “En dié?” “Dit lyk soos kinderpornografie en prostitusie, Kaptein. Ons het hulle hier agter,” hy beduie met sy duim oor sy skouer na die agterplaas, “by ’n paar moegoes in die bed gekry. Daar is videokameras ook.”
Boeries kyk na hul arms en sien inderdaad die spuitnaaldmerke – nog ’n episode in die skreiende verhaal van die internasionale mensehandel. Jong meisies word met beloftes van werk na Suid-Afrika gelok; hier word hul paspoorte weggevat en word hulle gebruik as prostitute en die hel weet wat nog. Die meisies wat nie wil saamwerk nie, word dwelms ingegee en uiteindelik dwelmafhanklik gemaak. Dan kan jy met hulle maak wat jy wil. “Gaan soek hulle klere en vat hulle stasie toe,” sê Du Plessis. “Laat weet die maatskaplike werkers solank. Ek sal nou daar wees, dan kan ons die saak verder vat.” Die sersant knik en beduie die meisies in die gang af. “En gee vir hulle kos!” roep Du Plessis agter hulle aan. “Hel, Boeries, hierdie ding is groter as wat ons dink.” “Dis die dwelms, soos jy netnou gesê het, Doep. Ons sal daaraan iets moet doen, anders gaan hierdie dinge nie end kry nie.” Boeries dink aan Baby, en dit is asof hy haar met ’n kombers oor die skouers tussen die beteuterde meisies kan sien. Fok, dit kan so maklik gebeur! Dis die ding van dwelms, ’n oomblik se lekkerte en dan sit jy met ’n ewigheid se stront.
45
Charlie stap om ’n sigaret op te steek, uit die boskroeg die donker nag met al sy riviergeluide in. Dit is ’n regte middel-van-die-week-aand – leë kamp, leë kroeg. Vrydag sal dinge weer begin lewe kry met besoekers wat so ’n bietjie wil wegkom uit die stad, al is dit net vir die naweek. Dit is nog net Kat wat in die kamp oor is; Charlie kan die lig in sy bungalow sien brand. Die speurder was ’n rukkie terug vir ’n nightcap in die kroeg, maar nie lus vir gesels nie. Dit lyk of die selfmoord van die oordbestuurder hom aan die dink het, en Charlie wonder waaroor dít alles gaan. Kat is ’n ou Johannesburgse moord-en-roof-man en dit is seker nie die eerste selfmoord wat hy gesien het nie. Iets karring aan hom, dit kan Charlie sien. Dat Tjaart in ’n ding was, kon hy wat Charlie is al lankal vir die pote gesê het. Hy hou sy oë oop, iemand met sy geskiedenis kan nie anders nie. Hy ken die tekens. Dit was baie verdag dat die roeiboot soms net van die sandbank af verdwyn het, en dit gewoonlik saans wanneer geen mens op die rivier behoort te wees nie. Hy is wel seker dat Tjaart nie die Monster van die Vaalrivier was nie; hy ken die serials, daardie half stupid kyk in hulle oë as hulle dink niemand kyk nie. Hy was saam met hulle in die tronk. Tjaart mag ’n uitsondering gewees het, maar hy glo nie, Tjaart was net nie die tipe nie. Charlie laat val sy stompie en maak seker dat hy die kooltjie met sy stewel se punt in die grond inboor. Hy het al begin wonder of Tjaart nie iets te doen gehad het met die seun se verdwyning nie, maar dit was ook nie die man se styl nie. Bewaring, ja; moord en ontvoering, nee, beslis nie. Nie Tjaart nie! Daar is na sy mening ander moegoes in die koepel bedrywig wat baie beter by die profiel van die Vaalrivier se monster pas. Charlie draai om. Hy kan maar net so wel die bottels gaan bêre en die ligte afsit, hy sal nie meer vanaand customers kry nie. Ou Koot Kruger het hom gevra om die kamp soort van te run tot ná die begrafnis, dan sal hy kyk of hy ’n ander plan kan maak. Die ou man se oë was vol trane en die hartseer het vlak in sy stem gesit. Charlie stap tussen die tafels deur, maak al die drankbottels agter die toonbank
bymekaar en dra dit na die stoorkamer. Nou moet hy net eers kyk hoe om in die donker tussen die tafels deur by die deur uit te kom, want om krag te bespaar sit hulle maar soveel moontlik ligte af. Hy sal ’n flits moet kry of hy gaan nog een nag sy gat los val oor ’n stoel of ’n ding. Charlie staan ’n rukkie stil nadat hy die skakelaar afgeskakel het om sy oë aan die donker gewoond te maak. Toe hy sy eerste huiwerige tree gee, gryp ’n arm hom van agter in ’n kopklem vas, ’n hand klap oor sy mond. Wat de hel! Hy gryp die arm om sy nek, vas, probeer dit afpluk, maar sy vingers kry nie behoorlik vatplek nie – dit is iets rubberagtigs. Dit is ’n duikpak, besef Charlie, en dit beteken swem, Jannie, swem! Of dit is Salmaklak? Maar met so ’n helse drankasem … Fok! Charlie gooi sy arms in die lug, trek sy bene op en span sy volle gewig in, soos hy in die tronk geleer het. Dan boor iets in sy regteroor – ’n skietding! – en hy sien dadelik af van sy poging om sy akrobatiese vermoëns ten toon te stel en laat sak sy bene weer. Buitendien, tensy die paddaman agter hom drie arms het, moet daar twee van hulle wees, en ’n threesome was nog nooit iets waarvoor hy kans gesien het nie. “Staan stil, Twostep Charlie!” fluister die drankasem sarkasties in sy oor. “Nie eens één step nie, my ou china, nevermaaind nog two steps.” Ag hel! Hy het geweet sy verlede gaan hom die een of ander tyd inhaal, maar nie nou nie, nie hier nie! Wat van die witkop se laaitie wat hy nog moet opspoor? Dis nou wragtag nie die regte tyd om te vrek nie, en sy agterent gáán hy sien, dis nie die pote dié nie, hierdie manne meen besigheid. Dis mos deesdae die mode in hierdie klipkoepelwêreld om met ’n tou en ’n stuk yster van jou nie-geliefdes ontslae te raak. “Gedink jy kan vir Vader weghol?” Vader? Maar hoe de bliksem … “Sit jou hande agter jou rug, en as jy jou bek oopmaak, trek ek die sneller. Ek maaind nie, of ek jou eers skiet en dan versuip, of net versuip, is vir my all the same.” Die arme man se asem stink nie net na drank nie, hy het ’n helse halitoseprobleem ook, óf die tik is besig om sy tandvleis op te vreet. Charlie voel hoe staalboeie om sy polse vasgedruk word, dan stamp die pistool se loop teen sy lippe, word sy tande oopgedwing en ’n opgebondelde lap vol sout en stront in sy mond gedruk. Dan twee windsels breë kleefband om sy kop
om die prop in sy mond te hou. Hel, die perde ken hulle werk. Hy weet, want hy is ’n spesialis as dit kom by boeie en daardie klas van dinge – jy kan maar sê dit was deel van sy trade. Charlie kan nou sien die skietding is ’n .45 met ’n knaldemper; dit word weer in sy ribbes ingestamp as Halitose voor hom kom staan. “Toe, loop! Rivier toe, en watch it, my china!” Die man grinnik met sy mond vol vrot geel tande. “Kan jy swem? Nie? Dan beter jy vinnig leer,” sing-sê hy vermakerig en opsetlik vals. Buite loer Charlie hoopvol na Kat se blyplek, maar dit is nou donker daar, die stoeplig is ook afgesit. “Vergeet hom,” sê Drankasem agter Charlie en ruk sy geboeide arms tussen sy skouerblaaie in. “Daai poot was gisteraand ’n bietjie besig. Hy slaap lankal.” Charlie gaan staan. Die res van die kamp is stil en donker, want die meeste straatligte is ook af en die sekelmaan kruip nog agter die swart wolke weg. Hy kry ’n stamp in die rug met die pistool. “Sandbank toe en roer jou gat.” Charlie wonder wat drink die vent wat so stink. Dit moet iets baie suur wees, iets soos bokswyn. Al waarvan hy seker is, is dat daar alkohol in is, en baie ook.
Op die sandbank lê ’n boot wat Charlie nie ken nie; dit lyk soos ’n rubberboot, maar dit het ’n buiteboordmotor. Hy sou sekerlik die lawaai van ’n buiteboord gehoor het; hulle moes roeispane gebruik het om so stil tot by die sandbank te kom. Kat se rubberduck en Tjaart se roeiboot lê ook daar. Die twee met die duikpakke gooi hom op die sand neer; een gaan sit op sy bors en druk die pistool met die knaldemper onder sy ken in terwyl die ander een na die boot met die buiteboord stap. “Lê net stil, Charlie, relax. Ons is professionals, ons sal jou nie laat ly nie, ou pel.” Die man wat Charlie so mooi probeer gerusstel, kyk op wanneer sy maat aangeskuifel kom met ’n tou en nog iets waaraan hy swaar dra. Vir Charlie lyk dit soos ’n stuk treinspoor. “Twostep,” sê Stinkasem, grinnik en tik met die pistool se loop op Charlie se bors, “omdat jy so ’n gawe mannetjie is, gaan ons jou die keuse gee: Wil jy
lewend versuip, of moet ek jou eers skiet?” Hy wag nie vir ’n antwoord nie, knik net vir Drankasem wat met die tou op die growwe sand langs hulle neerkniel. Charlie voel hoe sy voete teen mekaar gedruk word en hoe die tou om sy enkels gewikkel word. Norrefok, nie sommer so nie! Charlie ruk sy bene los en skop die een wat met die tou besig is in die gesig. Die man gryp na sy kop en val swetsend op sy rug. Die skielike beweging laat die een op Charlie se bors sy greep ’n oomblik verslap. Charlie haak sy bene om sy nek en ruk hom van sy bors af. Met sy hande wat agter sy rug vasgemaak is, sukkel hy regop, maar struikel oor die tou. Hy is dankbaar dat hy die tyd in die koepel gebruik het om ná die jare van niksdoen in die tronk ’n bietjie fiks te word, hy gaan dit nou nodig kry. Ná wat vir hom soos ’n ewigheid voel, is hy op sy voete. Hy moet hardloop, so vinnig moontlik wegkom van die sandbank af, maar dan onthou hy … Hoekom skiet die bliksems nie? Charlie swaai om. Stinkasem kom struikelend regop en lig die pistool – om net weg te hardloop sal nie werk nie! Charlie skop eers die pistool uit die man se hand, plant die ander voet in sy ribbes en hardloop dan bosse toe. Sy tong is lam onder die bondel in sy mond; sy asem sukkel deur sy half toe neus. As hy net die stuk natuurlike bos kan haal wat langs die ou rondawels oorgebly het, maar met jou arms agter jou rug vasgemaak … Voordat Charlie die rand van die sandbank kan haal, word hy platgeduik. Sy gesig word swetsend in die sand gedruk, so diep dat dit vir hom voel die growwe korrels dring deur sy neus tot in sy brein. “Jou bliksem,” skreeu die man wat hom beetgekry het, “jy het my fokken neus gebreek! Jou helsem!” Charlie kry ’n hou teen die kop wat sy ore laat sing; hy word regop gepluk en ’n vuishou op die krop van sy maag laat hom dubbeld vou; ’n tweede hou ruk hom weer regop en breek sy neus. Charlie voel die bloed oor sy bolip stroom – hy kan nou glad nie asem kry nie! Paniekerig probeer hy deur die prop in sy mond lug insuig. “Hoe voel dit, jou sleg hel?” sê die man voor hom. “Ek hoop jy versuip sommer in jou eie fokken bloed!” Die vent is reg, hy gaan versuip! Hy kry nie asem deur sy mond nie, en as hy deur sy neus probeer, is dit net snot en bloed. Charlie steier byna waansinnig van suurstofnood in die los sand rond, blaas hard deur sy neus; ’n bloederige gemors
loop teen sy ken af, beland op sy bors. Hy trek dankbaar suurstof in sy longe in en sien die volgende hou asof in stadige aksie na hom kom, wend ’n nuttelose poging aan om te koes, maar sy krag is op, sy bene heeltemal lam. Die harde rubbervuis tref hom onder sy ken; dit voel of hy opgelig word voordat hy snorkend op sy rug in die sand terugval. Deur die newels hoor Charlie ’n stem van die rivier se kant af. “Dis nou genoeg, Percy! Sleep hom hiernatoe dat ons hom in die boot kan kry.” Die slaner gryp sy voete vas en sleep hom deur die los sand na die water toe. “Maak sy pote aan die stuk yster vas dat ons kan weg wees. Hy is te vol stront, hy gaan lewendig in.” Charlie weet alles is nou verby. Nie dat daar ooit juis iets vir hom was nie. Hy wens eintlik hulle moet gou maak, want hy sukkel steeds om deur sy neus asem te haal. Eintlik maak dit nie meer saak nie, versuip is versuip, of dit nou in jou eie gemors of die rivier se besoedelde water is. In die rivier sal dit dalk net vinniger wees. Die tou word om sy enkels vasgemaak; hy gee nog vir oulaas ’n flou skop, meer uit gewoonte as aggressie, want die baklei is uit hom uit. Dan tref iets hom teen die kop en alles raak weg.
46
Kat lê met sy hande onder sy kop na die donker bungalow se dakbalke en staar. Hy het net ’n swart oefenbroek aan, dit is vrek warm en bedompig vanaand hier tussen die rante langs die rivier. Op TV is daar niks wat hom interesseer nie; hy is honger en lus vir ’n dop ook. Maar as hy wil eet, moet hy Potch of Parys toe ry, of self kos maak, want die restaurant by die lapa is net vakansies en naweke oop. En watse kos sal hy nou kan maak? Hy kan net braai, of melk en suiker by bokspap gooi. Met Tjaart se dinge het hy die vorige nag nie ’n oog toegemaak nie. Kon ook nie deur die dag rus nie, want die forensiese manne was heeltyd met ’n fynkam in Tjaart se huis besig. Die tonnel, sy kantoor, selfs die rubberduck het deurgeloop. Nou wil Kat slaap, maar hoe moet ’n man nou slaap as jou leë maag so ’n helse lawaai opskop? Kat staan op, struikel oor ’n skoen. Hy swets, skakel die lig aan en maak die yskas oop. Al wat daar te drinke is, is ’n halwe blik verslane Lion Lager waarmee hy eeue terug vir Annie ’n shandy gemaak het. Daar is wel ook ’n plat plastiekbottel koue water en ’n stuk blou kaas wat nie blou was toe hy dit gekoop het nie. Hy vat die bier en maak die broodblik oop. Niks. In die koskas kry hy darem ’n pak Weet-Bix. Sonder melk en suiker sal dit na droë hondestront smaak – sy aandete sal dus verslaande bier en droë hondestront wees. In ’n kas waarvan hy al vergeet het, kry Kat darem ’n blik sousbone. Hy kan nie onthou dat hy dit gekoop het nie; hy eet nie eens die goed nie! Miskien het ’n vorige inwoner ook nie daarvoor kans gesien nie en dit sommer hier gelos. Hy probeer nie eens soek na ’n blikoopmaker nie, want hy weet daar is nie een nie. In sy tas kry hy die Leatherman wat hy verlede Kersfees by Danelle en Rohan gekry het. Die ding is gewaarborg om enige iets oop te maak of af te sny, maar Kat is nie baie beïndruk nie – die ding het net te veel meghefters, is te swaar vir jou broeksak en die sak waarmee jy hom aan jou belt kan dra, laat hom soos Tarzan voel. Hy soek die grootste lem, karring die blik oop en skakel die lig af. Hy gaan sit op die donker stoep. Met die mes se lem skep Kat van die rooi bone op ’n stuk Weet-Bix en wurg dit
met ’n sluk verslane bier af. “Ai, ’n poot se lewe is nie maklik nie,” sê hy en sug diep. “Ek moes my ma meer waardeer het.” Die volgende meslem vol bone sit hy direk in sy mond; die helfte van die tamatiesous mors op sy borshare. Fok! Hy kry ’n dooie vuurhoutjie in die asbak op die draadtafel en krap die droë, klouerige hondestront en bone tussen sy tande uit. As sy mond nie meer so aangepak voel nie, vat hy weer ’n hap en sit al kouende en uitkyk oor die donker kamp. Charlie het reeds die kroeg se ligte afgeskakel, ’n dop is dus uit. Die sekelmaan kruip agter ’n paar vlieswolke weg en sy sagte lig oor die kamp laat Kat verlang na iets of iemand iewers, iemand wat hy nie eens ken nie. Ook na sy laaitie, Rohan – hopelik is hy veilig in die bed. En na Mooi Annie, natuurlik. Hy vryf sag met sy vingertoppe oor die draadstoel se armleuning. Dit was op hierdie selfde stoel dat sy hom aan sy ore gevat het en sy kop teen haar lyf vasgedruk het. Hy wonder steeds wat daardie aand sou gebeur het as daardie beskilderde gorilla hom nie so toegetakel het nie. Jy’s te flenters, ou grote … Kat skud sy kop en spoel sy mond met die bier uit; asof die smaaklose brousel hom sal help om van die beelde van daardie aand ontslae te raak. Dis water onder die brug, daardie oomblik is verby, miskien vir altyd. Kat klap na ’n muskiet op sy kaal skouer, druk die laaste stukkie van die WeetBix-koekie in sy mond en maak die bierblik leeg. Hy stap na die stoepie se houtreling, maak die Leatherman toe en sit dit in sy broeksak. Van waar hy nou staan, kan hy ’n groter deel van die donker rivier sien, ook die sandbank waar Tjaart die vorige aand die rubberboot gelos het voordat hy homself gaan ophang het. Die forensiese span het dit hoër op uit die water getrek toe hulle klaar was daarmee, want die ankeryster het hy in die tonnel vergeet en die ankertou is saam met die ondersoekspan weg. Tjaart se roeiboot lê ook nog daar, maar die lewensredder se kano is weg. Daar is nou geen vakansiegangers nie en dus geen werk vir ’n lewensredder nie. Was dit ’n beweging? Kat leun vooroor en kyk stip die donkerte in – hy het beslis iets daar op die sandbank gesien. Dit is net hy en Charlie in die kamp en tensy die kroegman besluit het om te gaan babers vang, is iemand besig om die polisieboot te steel. Fok, daardie
klomp polisieduikers is moeilike manne as jy met hulle toerusting neuk! Die ding se buiteboord is nou wel stukkend; “in vir diens,” het Dick Delport gesê, maar as daardie enjintjie reg is, wil hulle die boot terughê. Hy spoeg ’n mond vol Weet-Bix-en-bone in die blombedding voor die stoep, hardloop in die bungalow in, gryp sy nagsigverkyker en hardloop weer na die stoepreling. Dit neem hom ’n rukkie om die vreemde instrument in te stel, en dan sien hy die grinterige beeld van drie figure by ’n onbekende boot met ’n enjin. Een van die figure is ooglopend nie in staat om te beweeg nie, dit lyk asof hy vasgebind is. Charlie! Hy is die enigste ander mens hier rond. En die ander twee dan? Sonder om die lig aan te sit gryp Kat sy Z88 uit die holster op die bedkassie en hardloop af sandbank toe. Onder die soetdoring langs die bungalow trap hy op ’n tak wat afgebreek het en hink swetsend tot stilstand. Hy pluk die doring uit sy voet en hink verder, daar is nie nou tyd vir skoene nie! Hy het lank genoeg gesit en niks doen en wag vir iets om te gebeur, nou is dit tyd vir aksie. Naby die sandbank, by die bosse langs Tiger se ou rondawel, steek Kat vas. Hy kan die drie nou duideliker sien, en een van hulle lê op die sand langs die boot. Een van die ander twee sit in die boot, die derde is besig om die ou op die grond se voete met ’n tou vas te bind. Kat sak op sy hurke agter ’n doringbos neer. Hy kan nie alles hoor wat gesê word nie, maar wat hy hoor, is genoeg. Hy kruip stadig agter die bos uit, sak op sy hurke tussen die rivierbiesies neer. Dit is donker, maar hy is seker dat sy lyf, wat in die stad maar min son sien, uitstaan soos ’n spook tussen die donkergroen biesies. As hulle nie so besig was met hulle eie dinge nie, het hulle hom lankal gesien. “Maak sy pote aan die yster vas … hierdie een is … hy gaan lewendig in …” Dit moet Charlie wees daar op die grond, en hulle gaan hom versuip! Kat staan tussen die biesies op, die Z88 ’n verlenging van sy uitgestrekte arms. “Polisie!” skree hy en sy stem klap soos ’n sweep op die rivier se stil vlak. “Sit doodstil en hou julle hande waar ek hulle kan sien!” Hy kan nie mooi sien in die dowwe lig nie, maar hulle hoef dit nie te weet nie. “Police,” skree hy weer. “Put your hands in the air!” ’n Swerm voëls vlieg met ’n groot gedruis op uit ’n wilgeboom op die oorkantste wal, en dan spoeg ’n outomatiese geweer vuurtonge in Kat se rigting. Die koeëls
ruk die biesiepolle om Kat stukkend, dan fluit die koeëls om sy kop. Hy duik grond toe en wurm hom in die growwe riviersand in. Die buiteboord gee ’n paar heserige hoese; Kat hoor hoe naarstig aan die tou van die enjin geruk word, hoe iemand swets as die ding nie wil vat nie. “Dis daai poot met die snor! Laai die donner in dat ons weg wees!” Die buiteboord vat en Kat kom op sy knieë. Hy sien een van die mans die boot die water in stoot en hy skiet twee skote oor die vaartuig. “Polisie!” skreeu Kat. “Stop die boot!” Daar is ’n onskuldige mens by, hy móét hoog skiet. Die man op die sand spring in die boot en weer knetter die outomatiese geweer. Dan stoot die buiteboord sy revolusies op en die boot beweeg weg van die sandbank af. Fok, dis nou of nooit! dink Kat. Hy spring op en hardloop oor die los sand na die rivier. Op daardie oomblik dink hy aan Pine: “Kat, jy gaan nog eendag jou gat sien met jou hardegatgeit! As jy nie meer ’n man kan help nie, aanvaar dat jy nie kan nie, moenie net inneuk en hoop vir die beste nie.” Te hel met Pine, hy’s nie hier nie! Kat struikel tussen die biesies deur tot by die sandbank. Sy ou pel Charlie is tien teen een in daardie boot, ’n stuk tou en ’n yster om die voete. As hulle hom oorboord gooi, is hy moer toe! Op die sandbank kan Kat die man op die boot se agterstewe vaagweg in die maanlig sien. Hy sak op een knie, mik hoog en trek die sneller twee keer vinnig. Die man los die roer en gryp na sy skouer. “Aaaa, bliksem!” hoor Kat die man gil. “Percy, gooi die helsem af dat ons kan spore maak!” “Dit is nog te vlak hier!” “Gooi in, demmit! Die tou is kort genoeg!” Kat sien hoe die man eers die stuk yster oorboord gooi en dan die liggaam wat oor die boot se rubberkant rol. Die enjin se revolusies klim weer en die outomatiese geweer spoeg nog ’n sarsie koeëls. Kat skiet sy pistool leeg, maar hy weet dit is tevergeefs; dit is te donker en al skiet hy ook die rubberboot raak, sal dit net een van die kompartemente beskadig en niks meer nie. “Pine!” sê hy met sy oë vasgenael op die dowwer wordende vlek van die boot se kielwater op
die rivier, “nou is dit tyd om in te donner of Charlie is moer toe!” Hy gooi die pistool op die sand neer en duik in die rivier in.
47
Die man is nie te ver van die kant af oorboord gegooi nie, Kat kan nog die borrels sien. Dit is ’n goeie teken, maar hy sal moet gou maak! As die ou nie sy longe vol lug getrek het voordat sy kop onder die water verdwyn het nie gaan hy baie vinnig versuip … Maar alles hang ook af van hoe diep die water daar is en hoeveel drade en dooie bome en ander gemors op die bodem rondlê. Kat storm deur die vlak water – dis warmer as wat hy verwag het. By die borrels haal hy diep asem en duik ondertoe. Hy kan g’n niks onder die water sien nie; alles sal op gevoel moet geskied. Hy swem ondertoe, voel met sy arms om hom rond totdat sy longe wil bars. Niks. Hy skop-skop terug boontoe, vervloek elke sigaret wat hy ooit gerook het. Met sy kop weer bokant die rivier se staalagtige glans trap hy ’n rukkie water. Die paar borrels wat nog na die oppervlak kom, is ’n paar meter verder, hy het te gou afgeduik. Hy swem daarheen, haal vir oulaas ’n slag diep asem en duik weer af. Dit is nou of nooit; dit is sy laaste kans om Charlie te kry! Kat hou sy oë oop en verbeel hom hy kan ’n paar dansende wit borrels onderweg na die oppervlak sien. Hy skop harder, roei desperaat met sy arms, en bots dan teen iets. Dit beweeg! Dis materiaal, ’n lyf! Kat tas rond, voel hare, ’n ledemaat … dan kry hy die boeie aan die polse. Hy sak teen die rukkende bene af, en voordat hy by die skoene kom, voel hy die tou wat om die man se enkels gewikkel is en snaarstyf span na die een of ander gewig op die bodem van die rivier. Onmoontlik, hy gaan dié een verloor … Die bloed klop en raas in Kat se kop, sy longe brand en skreeu om suurstof. Hy pluk aan die knope; sy naels skeur uit sy vingers, maar daar is nie ’n manier dat hy hierdie knope gaan loskry nie. Hy is te laat. Hy het ’n mes nodig, iets wat kan sny! Die Leatherman, onthou hy. Sy broeksak, gou. Maar nou kan sy longe nie meer nie, daar is swart en rooi kolle voor sy oë. Hy het nóú suurstof nodig. Die vasgebinde man probeer nog skop; Kat dink hy kan ook ’n geluid hoor. Eers weer boontoe. Kat bars snakkend, brullend deur die oppervlak. Terwyl hy sy longe weer en weer vol asem ruk, wikkel hy die mes uit sy sak uit. Hy trap
water en sukkel om ’n lem oop te knip, sy koue vingers heeltemal onhandig. Hy probeer sy laaste heel duimnael in die gleufie van die meslem kry, voel hoe nog ’n stuk nael afskeur, maar dan lig die lem. Kat duik af, strek sy een hand soekend voor hom uit en vat gelukkig gou weer ’n hemp of broek raak. Maar … die lyf is nou leweloos. Hy voel-voel totdat hy die tou kry waarmee die man aan die gewig vas is. Hy saag aan die nylontou, een keer, twee keer … af! Sy longe skreeu weer om suurstof, maar hy gryp die slap, lewelose liggaam en skop boontoe. Kat breek deur die oppervlak met sy kop styf teen dié van die drenkeling. Hy voel die baard, sien die geslote oë … dis Charlie! Kat druk die lem by Charlie se oor onder die kleefband in en pluk. Hy kry die punt van die band tussen duim en gekromde voorvinger beet en gelukkig kom die hele gedoente met een ruk uit Charlie se mond uit. Toe swem Kat met een arm om Charlie kant toe, sleep hom op die sandbank uit. Wat het hulle op kollege geleer van verdrinking? Hy draai Charlie om op sy sy en die water stroom by sy mond uit. Hy steek sy vinger in Charlie se keel – die lugweë moet oop wees, sê die handboek. Maar hoe de hel kan die lugweë verstop wees as sy mond toegebind was? Te hel met die lugweë, netnou byt Charlie nog sy bleddie vingers af, en die man het suurstof nodig! Kat draai hom op sy maag en begin pomp met albei hande tussen Charlie se skouerblaaie om die water uit sy longe te kry. Terwyl hy pomp, weet Kat hy het iets vergeet wat sy die instruktrise gesê het, maar wat? Kat sit wydsbeen oor Charlie, pomp en pomp, maar al wat gebeur is dat water by Charlie se mond uitstroom. Kat draai hom op sy rug, druk sy neus toe en blaas lug by sy mond in, pomp dan weer sy bors. Een! Twee! Drie! Fok, hoeveel keer? Moet dit dalk vier keer wees? Hy wens hy het meer aandag gegee in die noodhulpklas, maar die instruktrise was mooi en jonk met ’n stywe leotard aan en hulle wou almal net die pasiënt wees. Neus toe, blaas! Een! Twee! Drie! Kat spoeg ’n haar uit sy mond, sies hel! Met Charlie se nat baard en sy snor wat teen sy bolip vasgepleister is, raak dit ’n nare besigheid. G’n wonder die vroumense hou nie van baarde en snorre nie. Hy wag ’n paar oomblikke. Hoe lank moet hy wag?
Weer ’n keer: neus toe, blaas! Een! Twee! Drie! Kat haal nog ’n haar tussen sy tande uit. Moet hy nie dalk eerder Charlie se mond toedruk en deur sy neus blaas nie? Maar sy neus is vol snot en bloed! Dit voel vir hom asof hy sy tyd mors, maar … a, daar onthou hy nou: Die instruktrise met die mooi mond en die sagte lippe het gesê: “Onthou, jy is nie ’n dokter nie, jy’s ’n poot. Hou dus aan totdat iemand wat meer weet as jy jou stop.” Mond toe, blaas! Een! Twee! Drie! Skielik gee Charlie ’n roggel en begin hoes, bring ’n klomp water op. Kat draai hom weer op sy sy – die hele Vaalrivier se besoedelde water stroom by sy mond uit. Fokkit! Daai girl met die mond en die lang bene sou trots op hom gewees het. Terwyl Charlie hoes en proes en water uitkots, sny Kat die res van die toue om sy bene los. Aan die boeie kan hy nou niks doen nie, dis te donker hier langs die water. Kat maak die Leatherman toe en druk dit in sy sak, tel die Z88 uit die sand op. Voordat hy weer begin skiet, sal hy die ding uitmekaar moet haal en skoonmaak. Hy druk die pistool voor by sy nat kortbroek se rek in, gooi Charlie oor sy skouer en sukkel teen die skuinste op na die bungalow toe.
48
Vir ’n man wat amper versuip het, lyk Charlie glad nie so sleg nie. Soos hy daar onder ’n paar komberse op die bed in Kat se kamer lê, lyk hy soos iemand wat net rustig slaap, nie asof hy by die poorte omgedraai het nie. Die boeie lê langs hom op die kassie; ’n draadhanger se punt het sommer gewerk as ’n sleutel. Al waaraan Kat kon dink toe hy met Charlie oor sy skouer by die kamer ingestrompel het, was om die boeie af te kry en die bibberende man uit sy nat klere en in die bed te kry. Hy het iewers gehoor dat iemand wat in skok verkeer warm gehou moet word, maar al waarvan hy weet wat warm maak, is komberse en brandewyn. Laasgenoemde is volgens Jerome ’n baie ou boereraat wat vir baie dinge werk. Die sleutels van die lapa se drankkluis het hy in Charlie se nat broeksak gekry. Hy het ’n bottel brandewyn gaan haal en ’n halwe koppie in die verkluimde man se keel afgegooi, sonder Coke, water of ys – daar was nie nog tyd om te vra hoe Charlie van sy dop hou nie. Die tweede koppie het hy self afgesluk en nou sit hy en teug self stadig aan die volgende koppie op ’n stoel voor Charlie se bed. Sy nat kortbroek lê op Charlie se hoop klere in die badkamer, en met sy sweetpak aan en ’n koppie brandewyn agter die blad voel hy self stukke beter. Charlie gee nog nou en dan ’n paar rukke soos iemand wat koud kry, en dan skeur daar weer ’n hoesbui uit sy keel, verder lyk hy oukei. Hy is kwaai verrinneweer voordat hy in die water gegooi is. Sy oë is toegeswel en sy neus en wangbeen lyk gebreek; sy gesig is blink geswel, soos ’n té styf gepompte sokkerbal. As die vent net wil bykom! Kat wil hom uitvra oor wat met hom gebeur het en wie die manne in die duikpakke is; hoekom hulle van hom ontslae wou raak. Al besoedeling in die koepel waartoe Charlie bydra, is sy asem, of het hy dalk ’n ander geraamte in die kas? Hy wens Annie was nou hier. Sy sal weet wat om met die half versuipte man te doen. Miskien moet hy hom in die bakkie laai en op Potchefstroom of Parys by ’n hospitaal kry. Hy het al aangebied, maar Charlie het heftig geprotesteer, met driftige gebare beduie hy wil nie gaan nie, hy wil net slaap, hy’s oukei. Wel, hy
lyk oukei. Hy slaap rustig, behalwe vir die gehoes en geruk so af en toe. Die ambulansmanne sal seker sê hy is besig om die pasiënt te “stabiliseer”, en die donner moet inderdaad nou vinnig gestabiliseer raak, want hoe meer tyd verloop, hoe moeiliker sal daardie twee versuipers opgespoor word. Kat wonder wat maak sy vanaand, dokter Annie de Villiers. Sit seker met ’n aantreklike bliksem in ’n duur Italiaanse restaurant, met ’n vent met ’n viool wat om hulle draai net om alles nog verdomp romantieser te maak. Hy wás darem al in so ’n Italiaanse eetplek, onthou hy skielik, maar hy is op ’n draagbaar daar uit. Dit was maklik om die skarminkel wat hy moes gaan uithaal tussen al die tafels met hulle blomme en kerse uit te kry. Hy het egter nie die lyfwag in die swak lig agter die pilaar gesien nie. Ook nie die .38 Special in sy hand nie. ’n Hoesbui onderbreek Kat se gedagtevlugte. Charlie kom proesend regop in die bed en kots ’n straal rivierwater in die emmer wat Kat voor die bed staangemaak het. Die kroegman loer deur sy toegeswelde oë na Kat, swaai sy bene van die bed af en sit ’n ruk met sy kop in sy hande. Kat gooi vir hom ’n kortbroek. “Nee, hel! Trek dit aan, jy’s kaalgat. Netnou kom hier mense.” Charlie sukkel die veels te groot broek oor sy kaal wit boude. “Thanks, pel,” kreun hy deur sy stukkende lippe. “Ek …” hy hyg ’n paar keer, “ek was amper moer toe.” Hy lig sy kop en probeer dapper glimlag. Kat neem ’n sluk van die koppie se inhoud en hou dit dan na Charlie uit. Charlie skud sy kop. “Nee, my kop is te fokken seer.” “Jy’s goed gemoer ook. Wie was die twee in die duikpakke?” Kat sluk self die res van die koppie se inhoud af, gril as die skoon brandewyn in sy keel af brand. “Sekuriteit-gorillas van ’n spul mal donners van ’n sekte iewers in die Drakensberge.” Charlie drink versigtig met sy stukkende lippe ’n slukkie van die water in die glas op die bedkassie. Kat bekyk hom met ’n frons tussen sy oë. Het die man nou wragtag breinskade opgedoen? Hulle sê as jou brein te lank sonder suurstof is, raak jy simpel en praat deurmekaar. “Sekte! Watse stront praat jy?”
Charlie bly ’n lang ruk stil, staan dan wankelrig op en sukkel sleepvoet toilet toe. “Dis ’n lang storie,” mompel hy voordat hy die deur toetrek. Hel! Kat stap brandewynbottel toe. Hy het nou regtig gedink dat sy ondersoek na die Vaalrivier se monster rigting gaan kry, maar nou lyk dit of sy enigste ooggetuie, wat hy met moeite uit die water gesukkel het, simpel geraak het. Hy hoor al die advokaat vir die verdediging sê: “Edelagbare, die getuie is koekoes en moet verwys word.” Kat gaan sit moedeloos op die stoel. Hy is kapabel en smyt Charlie sommer terug in die water! Charlie kom uit die toilet en gaan lê met sy arm oor sy oë op die bed. “My naam is eintlik Charlie Stevens,” sê hy. As hy geen reaksie van Kat kry nie, voeg hy by: “Party mense noem my Twostep Charlie.” Kat ruk uit die bedingesgeit wat besig was om soos Sasol se rookmis oor sy gemoed te trek. “Wat sê jy daar?” Charlie antwoord nie. Die stilte rek tussen hulle; ’n mot klop-klop teen die staanlamp se skerm. “Jy’t gehoor,” sê hy uiteindelik. “Wanneer het jy uitgekom?” “’n Maand of wat terug. Parool.” Die wolke wat vroeër die aand voor die maan verbygejaag het, het nou oor die stil oord saamgepak. ’n Weerligstraal klief skielik deur die donker, tellings daarna rammel die donderslag oor die rante. Groot reëndruppels plof buite in die stof en Kat kan die reën ruik. Hy sien hoe die blare van die blinkblaar voor die venster sidder onder ’n bombardement van druppels. Dis ’n ander storie dié! Kat kan nie besluit of hierdie nuus ’n welkome reënbui of ’n helse haelstorm is wat alles verder kom opneuk nie. “Soek ons jou vir iets?” vra hy. Charlie haal sy skouers op. “Ek weet nie.” “Hoe kan jy nie weet nie? Jy sal mos weet as jy drooggemaak het.” “Ek het niemand geskiet nie, as dit is wat jy bedoel.”
Kat staan op, sit die koppie op die bedkassie neer en stap hande in die sakke venster toe. “Ag hel, Charlie,” sê hy moedeloos. Hier het hy nou ’n ou wat hom ’n leidraad kan gee en nou blyk dit dat hy self aangejaag het. “Ek het so wragtag nie daardie mense op die plaas by Vrede geskiet nie,” sê Charlie, sy onderlip ’n hulpelose bakhandjie in sy donker baard. “Jy moet my glo. Al wat ek vra, is dat jy net na my storie sal luister en dan self besluit.” ’n Hoesbui ruk deur sy maer lyf. “Mense by Vrede? Waarvan praat jy?” “Ek is geframe, Kat. In my moer in deur ’n witkopteef.” Hy hyg deur die gehoes; ’n string slym in sy keel kom los en hy spoeg dit in die emmer voor die bed. Almal is altyd geframe. Hoeveel keer het hy dit al gehoor! “Charlie, dit was ’n lang dag en ek is moeg. Ek is nie nou lus vir strontstories nie.” Kat kyk stil deur die venster na die reën, draai dan weer sy kop na Charlie. “As jy op my skouer wil huil oor ’n perd wat jy iewers amper geskiet het, móét ek jou arresteer en tronk toe vat. Buffelshoek of Potch toe. So, besluit nou, het jy of het jy nie?” Kat laat egter sy ken byna berouvol op sy bors sak, vou sy arms en leun met sy boude terug teen die vensterbank. “En voordat jy jou mond oopmaak, moet jy weet ek sal alles wat jy sê in ’n hof …” “Ja, ja! Ek ken daardie rympie, ek het hom al gehoor,” val Charlie hom in die rede. Hy beur regop en swaai sy bene van die bed af, maar voordat hy nog iets kan sê, bars hy weer in ’n hoesbui uit. Hy kry eers ná byna ’n halfminuut weer gepraat. “Jy glo my nie,” sê hy. “Verdomp, Kat. Ek wil my onskuld probeer bewys deur saam te werk. En … en as dit julle help in julle ondersoek hier in die koepel, wil ek kwytskelding hê. Ek soek ’n plea bargain.” “Kwytskelding? ’n Pleitooreenkoms? Vir wat? Ek dog dan jy is onskuldig. In elk geval, vir daardie klas van dinge moet ek iemand anders kry, ek’s net ’n gewone poot.” “Net miskien skuldig aan brandstigting. Ek weet ook nie.” Charlie vee met sy hand die spoeg van sy mond en uit sy baard uit. “Ek … ek wil hê jy moet weet ek wil oop kaarte met julle speel. Ek wil nie weer tronk toe gaan nie. Al wat ek vra, is dat jy na my moet luister.” Die wind waai die reëndruppels in die kamer in en Kat maak die venster toe.
Charlie tel die koppie op en neem dié keer tog ’n sluk van die goue vloeistof. “Ek soek nog na daai witkoplaaitie ook.” Die speurder staan weg van die venster af. “Ja, daai storie ook nog … Ek dink jy mors my tyd. Ek’s moeg, sal in die ander bed slaap.” “Kat, jy verstaan verkeerd. Luister eers na my.” Charlie kyk hom pleitend aan. “Ken jy my geskiedenis?” “Ja, wel … Ek ken dit van waar Pine jou daar op die N1 in die heup geskiet het. Jy het daardie ou geblaas nadat jy sy kar van die pad gedruk het. Toe is jy tronk toe en ons het gelukkig kontak verloor.” Charlie knik stadig. “Nege jaar gesit en ontslaan ná goeie conduct en daai klas van dinge.” Hy vryf oor sy baard; hou Kat stip dop vir enige reaksie. “Toe ek uitkom, het ek bokkerol gehad en nêrens om heen te gaan nie. Toe bel daai witkopvroumens …” “Al weer daai witkopstorie!” Charlie beduie met ’n oop handpalm dat Kat hom ’n kans moet gee. “Toe bel daai vrou my met ’n kontrak op haar ouman. Hy het beroerte gehad en in ’n rolstoel gesit; ek moes hom gaan uitsit sodat sy kon erf. Sy het my tienduisend aangebied, en dit sou my laaste kontrak wees. Genuine. Met die geld sou ek wel weer iewers kon begin.” “Oukei, Charlie.” Kat gaan sit weer, vat die koppie by Charlie, gooi van die goue vloeistof in sy keel af. “Praat maar. Laat ek hoor.”
Kat het van die koppie in sy hand vergeet. Charlie se storie klink soos misdaadfiksie. Soms was dit te dik vir ’n daalder, maar dan het Kat die erns in Charlie se oë gesien en stil bly sit en luister. Toe Charlie klaar vertel het, staan hy op om die pyn in sy heup te verlig. Die koue water het dit nie goed gedoen nie. “Is dit die storie?” vra Kat nadat Charlie weer kreunend gaan sit het. “Hoe het hulle jou toe daar uitgekry?”
“Hulle het my vasgebind en in haar Merc SUV gelaai. Met haar en die wag – Jimmy is sy naam – agter die stuurwiel is ons daar weg. Vader het sy blessings en ’n paar Bybelversies saam gestuur. Hulle het my gedrop by ’n plek wat die mense daar rond Tienmyl noem. Dis waar die Vredepad by die VilliersWardenpad aansluit. Hulle het my beduie hoe om by die koepel te kom en toe ’n kraak gemaak.” Charlie gee ’n skor laggie. “Hulle sou vir daardie Vader en sy gespuis die storie spin dat ek hulle oorrompel en toe ontsnap het.” Kat proe versigtig weer aan die brandewyn in die koppie. “Hoe kom jy toe in die koepel?” “Met die duim.” “Waar presies is hierdie plek van die Mosesrokke of whatever hulle die plek noem waar die dwelms vandaan kom?” “Presies waar weet ek nie. Ek is met ’n helikopter daarheen gevat toe die son nog nie mooi op was nie. Maar ek is met ’n motorkar daar uit, so, ek het ’n redelike idee …” Charlie krap in sy baard; hou Kat versigtig dop. “Maar as jy die res wil hoor, sal jy eers die ‘iemand anders’ van wie jy netnou gepraat het, moet bybring. Die res van die storie gaan oor julle hassles hier in die koepel, en daarom ’n moontlike plea bargain vir my.” Kat loer na die digitale horlosie van die radiowekker op die bedkassie: kwart voor twee. Hy skuif sy selfoon oop, bly om te sien daar is vir ’n verandering ’n sein en hy skakel ’n nommer. Hy hoop nie ou Pine is in ’n ongemaklike situasie nie; met hom en Ann weet jy nooit. “Pienaar,” kraak ’n baie vaak stem aan die ander kant. Hy was beslis met niks anders as slaap besig nie. “Kat hier …” Kat aap die nuuslesers na van die streeksradiostasie wat ’n mens deur die dag in die lapa kan hoor. “… en ek praat met u uit die pragtige wêrelderfenisgebied van die Vredefortkoepel. Dit is ’n pragtige nag hier in die koepel met ’n bietjie reën en bykans geen teken van wind nie. Daar is net ’n skamerige halfmaan wat soms soos ’n blosende bruid van agter die wit vlieswolke loer na die wonderlike wêreld wat deur ’n meteoriet …” “Fok, Kat!” Die stem is nog krakerig, maar daar kruip nou so ’n ietsie van die gesag van ’n brigadier in. “Is jy gesuip?”
“Ja, Brigadier, so dronk soos ’n pou. Ek sit hier met ’n koppie vol skoon brandewyn in die hand.” “Wat soek jy? Dis verdomp tweeuur in die môre!” “Twintig oor.” “Hû?” “Ek sê dis twintig oor twee.” “Wat wil jy hê, Kat?” “Twostep Charlie stuur groete.” Pine is nou heeltemal wakker, maar hy kry nie dadelik die regte woorde nie. “Wa- … waar het jy hom gesien?” “Ek kyk na hom. Hy het amper versuip.” Weer net ’n paar keelgeluide voordat Pine antwoord: “Het jy hom gearresteer?” “Nee, waarvoor, lelik op straat? Ek weet nie van enige aanklagte teen hom nie, weet jy?” “H’n-’n.” Kat kan Pine aan die ander kant hoor gaap. “Sal moet uitvind.” “Pine, ek dink jy moet jouself so gou as moontlik hier in die koepel kry. Dit smaak my hy kan ons help om ’n paar sake op te los, maar hy wil eers praat.” Pine ken Kat goed genoeg om te weet hy sal nie bel as dit nie regtig dringend is nie. Hy loer na Ann wat met groot oë na hom lê en kyk. “Ek is op pad,” hy kantel sy Timex, “sal so vyfuur by jou wees.” Ann gryp Pine se arm vas wanneer hy die selfoon toeskuif. “Wat is dit nou?” Haar oë soek bekommerd in syne. Pine leun oor en druk haar kop teen sy skouer vas. “Kat soek my in die koepel. Hy het Twostep Charlie by hom. Sê vir Mkhize as jy op kantoor kom, ek wil hom nie nou pla nie. Sê ek sal hom later bel.”
Ann knik en trek die laken oor haar kop as Pine die bedliggie aanskakel. As Kat in ’n situasie is, is daar altyd probleme, met baie geweld. “Ek sal vir Mkhize sê,” fluister sy van onder die laken uit.
49
Stien Freislich se ou wit Datsun Trippel-S staan op die oprit van twee gebarste sementstroke voor die motorhuis met die afgeskilferde groen deur. Die Datsun se vooras is in die lug, en Kris is besig om die wiele se koeëllaers te vervang. Hy sit wydsbeen onder die opgedomkragte vooras sonder wiele, sy vingers aan die woel in ’n pot ghries. ’n Lexington hang skeef uit sy mond, sy een oog is toegeknyp teen die irriterende rook wat teen sy gesig opkrul. Cassie, sy ou visvangmaat en drinkebroer, sit ’n ent weg op ’n stomp, wydsbeen voor ’n bottel Klippies, ’n liter Coke en ’n emmer ys. Kris smeer die taai ghries versigtig om die as, vee sy vinger skoon aan sy morsige oorpak, haal die Lexington uit sy mond en blaas die rook onder die motor in. Hy vat die glas wat langs hom staan met die duim en pinkie van die skoonste hand en sluk diep en dankbaar, gee ’n ysblokkie ’n paar koue en spoeg dit tussen Stien se kannas in. “Hel, hierdie wielbearings lyk sleg!” Hy hou die leë glas na Cassie toe uit. “Gooi, ou pel. Maak dit maar ’n dubbeltjie, dis morsige werk hierdie.” Cassie lig sy pet en vee ’n slag oor sy kaal kop voordat hy die glas aanvat. “Ek weet, dis altyd ’n dubbel.” “Hoe sê jy?” vra Kris met sy kop onder die modderskerm ingedruk. “Nee, niks. Ek sê maar net dis warm.” “Hierdie brake linings is ook nie lekker nie,” brom Kris. “Jy weet, ’n ou kar en ’n ou vrou is net dieselfde. As die een bleddie ding reg is, is ’n ander ding weer stukkend.” “Hoe sê jy nou, Kris Freislich?” Stien het intussen kom kyk hoe vorder die manne. Kris ruk sy kop onder die karretjie uit en stamp dit teen die modderskerm. “Eina! Helsem! Stien, demmit, wat bekruip jy ’n man so?”
“Dit sal nie help om te vloek nie, Kris Freislich. Wat sê jy van ou vrouens?” “Ek het nie van jou gepraat nie.” Hy vryf sy kop. “Jy is mos nog nie oud nie.” “Gmff! Cassie, gee my daardie dop voordat ek hier ’n sonde begaan,” sê sy, vat Kris se glas en proe daaraan. “Demmit, die ding is sterk! Hy sukkel seker weer, daarom drink hy net doubles.” ’n Ouerige wit Volkswagen Jetta met een groen deur en ’n NDregistrasienommer draai by die hek in en hou agter die Datsun stil. Op die dak is ’n kajak vasgemaak wat heelwat langer as die Jetta is. ’n Netjiese, frisgeboude jong man klim uit. Hy het ’n kakie-kniebroek en loshangende T-hemp aan; sy gesig en bene is bruingebrand en sy goue hare blink in die namiddagson. Hy stap na Kris toe en steek sy hand uit. “Hi, uncle Kris, hoe gaan dit?” Swaar Engelse aksent. Kris vat die hand. “Yes, ou pel. Ken ek jou?” “Clinton, Oom. The lifesaver at Lekker Rus.” “O yes! Ek het jou nie sonder daai spoggie herken nie.” Die jong man glimlag en steek sy hand na Stien uit. “A nee-a! Gee jou tant Stien ’n soen. Sy’t lanklaas ’n soen van ’n jong man gehad. Daardie hand van jou het in any case nou genoeg ghries aan om ’n kar te service.” Clinton soen Stien op die wang; knik vir Cassie. “Is Baby here, antie Stien?” Kris sukkel regop. “Wat’s jou storie, pel?” Hy het nog nie heeltemal van die spoggie en dié se inhoud vergeet nie. “What are your intentions with my daughter?” “I’m on my way to Durban, Sir. Ek het vir haar ’n catalogue van die Puk af gebring. She asked for it.” “Jy bedoel universiteit? Om wat mee te maak? Sy gaan hairdresser word en daarvoor gaan sy sommer tek toe. In Welkom.”
“Kris!” raas Stien. “Moet jou nie simpel hou nie. Haar punte het baie verbeter. Sy kan volgende jaar baie beter vir haarself doen, selfs die skoolhoof sê so.” Sy sit Kris se glas op die enjinkap neer en neem die jong man aan die arm. “Kom, ou seun, sy is in die huis. Sy sal bly wees om jou te sien.”
Baby wás bly om hom te sien, maar ná alles wat intussen gebeur het, was sy versigtig ook. In die proses om die los drade van haar verflenterde lewe weer bymekaar te kry ná haar tronkepisode, was hy voortdurend in haar gedagtes. Hy was iets om aan vas te hou as die groepsdruk by die skool te groot wil word. Sy het niemand vertel van die dwelms wat hy vir haar in die koepel gegee het nie, want sy het geweet hy gaan nog ’n rol te speel hê in haar lewe. Toe sy Clint weer sien, het sy verseker geweet sy wil hom hê, maar sy het ook heeltyd onthou hoe haar pa daar onder die boom gesit het. Sy wil alles wees wat Clint wil hê, maar sy wil ook hê haar pa-hulle moet trots wees op haar. Boeries moet weet sy is en sal ’n Freislich bly – ’n góéie een. “Wat is die storie van die universiteit?” vra Kris toe hulle die aand om die etenstafel sit. Hy hou nogal van die jong man, so sonder sy spoggie, al is hy ’n Engelsman. Hy moet sê ná dáárdie nag in die sel is Baby ook ’n ander kind. Sy loer nou nie meer met ’n nors, uitdagende tienerfrons tussen haar hare deur na hom nie. Sy is vriendeliker, en dit is asof daar ook minder van haar by haar klere uithang en uitpeul. Sy eet ook weer, slaap beter en lag selfs vir sy myngrappe. “Clint gaan volgende jaar ’n nagraadse kursus daar volg, Pa, en ek wil menslike bewegingskunde daar gaan swot.” “Wat de hel is dit?” Vir Kris klink dit maar verdag, so asof dit te doen het met iets waaroor jy nie in goeie geselskap praat nie. “LO, Pa!” “O, nou hoekom sê jy nie so nie? Moet ’n mens nie vrystelling of so iets daarvoor hê nie?” “Nee, Pa.” Kris sien die twee jong mense se leë borde. “Nou vir wat eet julle nie?”
Stien kom tot haar dogter se hulp: “Clinton neem haar uit vir ete.” “Just the Spur, Sir. In Welkom, at the new mall.” Kris is ’n ruk stil met sy eie gedagtes besig terwyl hy spook met die stuk vleis wat Stien in die oond gebraai het. Die man maak ’n baie beter indruk as die oliekop van ou Keppies hier langsaan met sy knypbroekies en motorfiets sonder baffles. Hy wonder altyd wat vir ’n indruk hý destyds op Stien se ouers gemaak het met sy olierige ducktail-kuif en groot swart Harley Davidson. Dié ding het darem baffles gehad, gepur soos ’n katjie! Hy kan hom ook nou indink in haar ouers se bekommernis toe hy met hulle dogter agter op daardie swart gevaarte daar weg is vir ’n session in die Swallows-dansplek. Kris loer tussen die kouery deur na Clinton. Baby het dalk ’n beter keuse gemaak as Stien jare gelede. Hel! Miskien ook nie, hy was darem self ’n aantreklike stuk mansvleis op sy dag. Dan raak hy bewus van die stilte … almal kyk vir hom; hulle wag vir sy reaksie! “Nou hoekom ry julle nie?” sê Kris met ’n bol taai vleis in sy kies, beduie met die mes en vurk. “Geniet dit.” Baby, wat ’n preek van haar pa verwag het, spring op, soen hom op sy voorkop en verdwyn met ’n “ek is nou terug” in die gang af. “Thank you, uncle Kris. Ek sal mooi agter haar kyk.” Die gebrul van ’n motorfiets in die oprit maak Kris se antwoord onhoorbaar. “Boeries,” sê hy toe die enjingeraas bedaar, en net daarna kom die jong polisieman by die kombuisdeur in. Hy steek vas en kyk agterdogtig na die vreemdeling. Stien kom regop en stel Clinton voor. Boeries sak met ’n sug in ’n stoel neer. “Moeilike dag?” vra Stien, haal sy bord kos uit die louoond en sit dit voor hom neer. Boeries knik. “Ja, nogal,” brom hy. Hy druk ingedagte sy vingers tussen sy hempsknope deur om aan die blou kol op sy bors te vat. As dit nie vir daardie koeëlvaste baadjie was nie … Dan skud hy sy kop, sy ouers hoef nie daarvan te weet nie. Baby kom by die gangdeur ingedartel, en Kris se mond val oop. Van alle dinge
het sy dogter ’n rok aan! Wanneer laas het hy haar in ’n rok gesien, én nogal een wat alles toemaak? Sy verbasing gaan dan oor in waardering. Hel, sy’s mooi; begin al hoe meer na Stien in haar jong dae lyk Die rok is wel by die nek ’n bietjie laag met sulke streppies oor die skouers wat lyk of hulle enige oomblik gaan afgly, of … maklik losgemaak kan word. Ag ja, hy kan seker nie alles gelyk verwag nie. “Slaap jy sommer hier? Die spaarkamer is klaar opgemaak,” sê Stien toe Clinton opstaan. “Nee, antie Stien. Ek gaan Baby net kom aflaai. Wil nog op die plaas by my pa aangaan, ek sien hom te min.” “Waar’s die plaas?” “Bietjie tussen die berge ingesteek. Difficult to give directions,” sê hy met ’n glimlag. Toe die twee by die deur uit is, brom Kris: “Die nek is bietjie laag, is dit nie?” “Dis die mode, Kris. Basta met jou, sy’s nie ’n non nie.” “Lyk nogal na ’n oulike ou,” sê Boeries. “Die beste waarmee sy nog hier aangekom het.” Kris sukkel weer met die mes en die stuk vleis. “Waar het jy dié stuk vleis gekoop?” “By die slaghuis.” “Sakkie het dié stuk vleis seker langs die treinspoor loop optel. Alhoewel,” hy gee ’n paar koue, “as die trein die bees getrap het, sou dit sagter gewees het.” “Gmff! As jy die steakmesse ’n slag slyp, sal jy nie so sukkel nie.” “Boeries,” Kris beduie met die mes na sy seun wat net sit en peusel, “wat lyk jy of die kat jou kos afgevat het?” “Ag hel, Pa …” Boeries sit sy vurk neer en leun terug in sy stoel. “Dis maar weer die dwelmprobleem. Ons het laas nag ’n dwelmnes in Saaiplaas uitgeroei,
maar dis net die punt van die ysberg. Die ding is besig om te eskaleer, daar kom nou kinderpornografie en prostitusie ook by.” Hy speel ’n rukkie woordeloos met die soutpot. “Kat sit in die koepel en het dieselfde probleem daar by hulle.” “Ja-’n.” Kris sug. “Ons het by die myn ook ’n dwelmprobleem. Ou Sam het verlede week ’n jong onsetter van die bank af weggejaag. Die mannetjie was so gerook en gesuip, of weet ek wat, dat hy nie die klokke se seine kon onthou nie. Elke slag as hy ’n sein vir die drywer gelui het, het die drywer vir hom ’n lange en ’n korte teruggestuur. Hy sê hy kon nie verstaan of die mannetjie boontoe of ondertoe wil neuk met die cage nie.” Stien frons. “Jy weet, Kris, jy vertel altyd jou stories asof jy dink almal van ons het in ’n myn gewerk. Wat beteken ’n lange en ’n korte?” “Fok jou,” brom Kris. “Ekskuus?” Stien ruk haar skouers ontsteld terug. “Jy verstaan nie,” verduidelik Kris vinnig. “Dis wat ’n lange en ’n korte beteken, in myntaal.” Boeries staan op. “Verskoon my. Ek gaan slaap, ek is moeg. Ek moet môre Johannesburg toe en wil by Kat in die koepel aangaan. Lekker slaap.” Kris stoot ook sy stoel terug. “Kom, ou lief, los die skottelgoed vir môre. 7de Laan gaan nou begin en ek is nuuskierig om te sien hoe Gita hierdie keer uit die stront gaan kom.”
Vir Baby was die etery by die Spur saam met Clinton ’n nuwe ondervinding. Hy het hom soos ’n ware heer gedra en haar spesiaal laat voel, soos sy geweet het hy sou. Dit was iets heel anders as dit waaraan sy gewoond was tydens ’n aand uit saam met oom Keppies se seun, Cecil. Met hom was dit gewoonlik deurmekaar gewaaide hare agter op ’n motorfiets, ’n hamburger en tjips by die Griek op die hoek en daarna ’n stoeigeveg om sy pote van haar lyf te hou. Clinton het haar hand vasgehou en by die dowwe, flikkerende kerslig in haar oë sit en kyk. Hy het haar vertel hoe mooi sy is en hoe bly hy was dat sy klaar is met die tik. Hy het saamgestem dat dwelms nie ’n goeie ding is nie; gesê dat dit
nie iets is wat hy meer self sal gebruik nie, daarvoor is hy te gesondheidsbewus. Sy was bly om dit te hoor, want die dwelmding was vir haar ’n bron van bekommernis wanneer sy gefantaseer het oor ’n toekoms saam met dié aantreklike man. Die aand het vir haar egter skielik en snaaks geëindig. Sy het ’n draai gaan loop, en toe sy terugkom, het sy vir Clinton gesê haar Smirnoff Spin smaak effens snaaks. Hy het gesê sy moet dit klaar drink dan bestel hy vir haar eerder ’n Coke of so iets. Sy wou die Spin los, maar hy het gesê daar is nog net ’n klein bietjie oor en dit sal mors wees. En nog voor die laaste sluk het alles dof geraak en om haar begin draai. Sy was bewus van Clinton se arm om haar skouers, hoe hulle steierend tussen die tafels deur is, mense wat wegkyk of die kop afkeurend skud. Hy het haar op die Jetta se agtersitplek laat lê, en dit is al wat sy van die aand kon onthou.
50
Pine trek ’n tarentaalveer deur die Keyser en blaas ’n paar keer deur die pypsteel voordat hy twak met sy middelvinger in die kop begin inwerk. “Is dit jou storie?” vra hy aan die man met die baard en die gekneusde gesig. Pine en Kat sit op Tjaart se omgekeerde roeiboot wat niemand nog van die sandbank kom wegsleep het nie; regoor hulle sit Charlie op die rand van Kat se rubberboot. Die son maak spore weg van die rante af en die koepel se geveerde bewoners neem met oorgawe deel aan die oggend se sangoefening. Charlie knik herhaaldelik. “Ja, dis wat ek ook aan Kat vertel het.” Pine draai sy gesig uit die môreluggie, hou sy bakhand met ’n vuurhoutjie teen die kromsteel se kop en suig totdat die pyp blou wolke maak. “Dit is ’n oulike storie en ek dink ’n skrywer van speurverhale sal nogal daarin belangstel. Maar wat bring jy vir ons na die tafel om oor te onderhandel?” ’n Pou skreeu van Koot Kruger se plaas af oorkant die rivier. Pine ruk sy kop op, en Kat laat die kans nie verbygaan nie: “Dis ’n pou, Pine, nie ’n siel uit die hel nie.” “Ek weet. Onthou, ek is ’n plaasjapie.” “As ek langer hier bly, is ek ook een,” brom Kat. “Charlie …” Pine sit die dooie vuurhoutjie in die boksie terug. “Jy laat dit klink soos ’n dwelmnes. Het jy die plek gesien waar hulle die kokaïen en tik maak?” Charlie skud sy kop. “Nee, maar Calla het gesê …” “Presies! ’n Ou wat sy vrou en vyfhonderd merino-stoetooie verloor het, behoort redelik die dinges in te wees vir die spul met die rokke. Ons kan nie net ’n taakspan vat en daar instorm om die plek toe te maak nie. Ons moet ’n lasbrief hê en dit sal ons nie kry net omdat ’n boer die moer in is vir die spul nie.” “Ek het gesien hulle gebruik die goed. Hulle het my ook met die een of ander
soort gemors ingespuit.” “Nog nie genoeg rede om daar in te storm nie. Die pers hou nogal van sulke stories van polisiebrutaliteit, veral teen kerkgemeenskappe. Dis die tipe ding wat koerante verkoop.” Pine krap nadenkend met ’n stok in die sand, beduie dan met die stok as hy weer begin praat. “Ek het netnou met generaal Mkhize oor die telefoon gepraat en hy sê ook ons kan nie vir jou kwytskelding gee vir ’n saak wat nog nie eers behoorlik ondersoek is nie. Soos jy weet, is daar in elk geval geen kwytskelding vir moord nie. Maar, as die inligting wat jy ons gee direk aanleiding gee tot die inhegtenisname en vervolging van skuldiges in die moorde hier in die koepel, of dié wat dwelms versprei, dan kan ons van ’n versagting van vonnis praat. Kwytskelding kom in elk geval nie van ons af nie, daarvoor sal ons met die staatsaanklaers moet praat. Dit is natuurlik as ons jou vir enige iets gaan vervolg.” Charlie kyk vraend na Kat. Kat spoeg ’n slag windaf. As om heeldag in ’n kantoor op jou agterent te sit ’n man sulke lang stories laat spin, soek hy nie daardie soort jop nie. Pine klink soos ’n bleddie advokaat en hy kan sien dat Charlie nie die helfte daarvan verstaan nie. “Wat Pine probeer sê, is dat as jy ons help, sal ons jou help.” Charlie staan op, tel ’n plat spoelklip op en laat dit oor die water wip. “Ek wil iets op papier hê.” Pine klop die pyp se boonste bietjie as sag teen sy skoen se hak uit en druk die res weer met sy duim vas. “Charlie, ek sal dié keer ’n taal praat wat jy én Kat kan verstaan. Daar is nie ’n papier nie, want ek kan jou nie ’n papier gee nie. Dis so eenvoudig soos dit. In elk geval nie nou al nie.” Kat stap na Charlie en sit sy arm om sy skouers. “Ek kan jou natuurlik altyd eenkant toe vat en die stront saam met die regte storie uit jou foeter. Ek dink nie jy vertel vir ons die hele storie nie. Niks wat jy gesê het, maak ons opgewonde nie; daar is misdaadstories op Exclusive Books se rakke wat interessanter is.” Charlie het gesien wat die groot speurder met daardie gorilla van die boordery gedoen het en hy loer na Pine. Maar hy is lank in hierdie game en hy ken die good-cop-bad-cop-speletjie waarmee die twee speurders nou besig is. Hy sal
hom nie daaraan steur nie. “Kyk, Charlie,” sê Pine met sy stem laag en vertroulik, “jy moet jou nie aan Kat steur nie. Jy ken my al baie jare en ek sal jou nie drop nie. Sê jou sê en dan kan ons weer praat oor ’n pleitooreenkoms. Wat het jou ondervinding met die witkop nou te doen met die moorde hier in die koepel? Volgens jou is haar seun ontvoer en word hy iewers hier in die koepel aangehou. Waar? Ons kan nie die plek omkeer op soek na ’n seun wat nie as vermis aangemeld is nie.” Charlie weet daar is geen ander uitweg as om met die sak patats vorendag te kom nie. Hy soek die kind en hy is nou al meer as ’n maand in die koepel en het nog niks uitgerig nie. As Pine-hulle hom arresteer, is die witkopvroumens die enigste een wat kan vertel dat hy nie die twee mense op die plaas geskiet het nie, en daarvoor moet hy die seun opspoor. “Die … die rooi-en-wit helikopter,” begin hy aarselend, “die een wat elke week hier oorkant besoek aflê, is dieselfde een waarmee ek in die veld opgelaai is. Dis ook dieselfde een wat die kind uit die berge gevlieg het.” Charlie kyk van Pine na Kat en weer terug. “Hy het gereeld goed vir die mense op die boorsite ingebring, en daar was altyd ’n paar ongemerkte bokse wat Tiger Denton dan kamp toe gevat het.” Charlie klap ’n steekvlieg van sy arm af en gaan dan voort: “Daar was drugs in, en die bokse is dan weer deur die ander man, die gryskop met die groen Freelander, Conroy Bosman is sy naam, by Tiger hier in die kamp kom haal. Die goed word van sy huis in Parys verder versprei na drug dealers in Gauteng.” Kat staan met ’n klip in die hand wat hy vergeet het om te gooi; Pine se pyp is deur die wind doodgewaai. ’n Paar kolganse vlieg laag oor die water en skel op die mense op die sandbank waar hulle wil gaan sit. Kris Freislich het altyd vir hulle daar ’n paar broodkorsies gelos. Ná ’n ruk haal Pine sy pyp uit sy mond. “En die moorde?” Charlie het ’n teenvraag: “Wie is almal dood?” Die twee polisiemanne kyk hom stilswyend aan en hy antwoord self sy vraag: “Drie boormanne en ’n hengelaar wat ook betrokke was by die boordery en die aflaai van die helikopter. Die vrou het gewerk by daardie bouery hoër op in die rivier. Hoewel, ek dink sy het dalk rêrig verdrink, maar wie weet. Die manne van die boorsite het te veel geweet, en noudat Conroy sy drug-operasie na ’n eiland by Parys geskuif het, moes hy van
hulle ontslae raak.” As nagedagte sê hy: “Ek het weer te veel vrae gevra.” “So, jy dink Conroy is die moordenaar?” “Nee, hy is fisies nie in staat nie, maar hy organiseer dit. Die twee duikers wat my wou versuip, is van daai Vader in die berge se mal bliksems. Ek het een herken. Conroy kyk net na Vader se belange hier in die koepel en maak geld met dope.” “Is hy ook een van Vader se dissipels?” “Ek glo nie. Hy is maar net ’n verspreider. Hy suip en paartie te veel om ’n dissipel te wees.” Pine kom staan by Charlie. “Jy sê jy weet te veel en ek kan dit sien, want jy is die een wat weggekom het. Maar hoekom gaan hulle nou eers vir jou? Jy is darem al ’n ruk in die koepel.” “Hulle het my gesoek, maar lank nie geweet waar ek is nie. Die baard het natuurlik gehelp …” Charlie grinnik. “En die feit dat ek die eerste keer in my lewe eerlike werk gedoen het, het almal mislei – julle ook! Dit was die vrae oor die kind wat hulle op my spoor gebring het.” Pine hou weer ’n vuurhoutjie se vlam bokant die kromsteel se kop. “Charlie … die seun, het jy geen idee waar hy is nie?” “Nie in die koepel nie. Mense praat oor sulke dinge as hulle in die kroeg sit, veral as hulle gesuip raak. Miskien by die Conroy-vent se huis in Parys. Daar is eintlik geen ander plek nie.” “Waar bly hierdie Conroy Bosman?” vra Kat. “Het jy sy adres?” “Nee, nie ’n adres nie, maar ek het al goed daar afgelewer vir die Krugers.” Kat gee hom ’n stok en krap ’n stuk grond met sy stewel gelyk. “Teken ’n kaart.” “Oukei.” Charlie dink ’n rukkie. “Die maklikste sal wees om met die Potch-pad in Parys in te kom. Die eerste straat ná die groot brug moet jy links draai …” Pine se selfoon lui; hy bekyk die skerm en skuif die foon oop. “Ja, Generaal?” sê
hy terwyl hy tussen die biesiepolle instap. “Die huis het dus ’n rivierfront?” vra Kat terwyl hulle vir Pine wag. Charlie knik. “Ja, die rivier is soos ’n agterdeur vir hulle. Daar is ’n boot ook. Julle sal van twee kante af moet ingaan.” Kat spoeg windaf en vee sy snorpunte skoon. “Dan sal ons maar die agterdeur moet toemaak.” “Wat het jy in gedagte?” vra Pine, wat oor die sand aangestryk kom en weer op die boot gaan sit. “Sorg jy net dat die rubberboot ’n enjin kry,” sê Kat. “Bosman lyk nie vir my na iemand wat lus is om te swem nie. As hy probeer wegkom, sal hy beslis die boot gebruik.” “Oukei.” Pine knik en draai na Charlie. “Ek het vir jou nuus.” Hy wys na sy selfoon. “Dit was generaal Mkhize. Hy sê in hierdie stadium is jy nie ’n verdagte nie; jou naam word nie eens genoem nie. Volgens die polisie is hulle nou net op soek na die vrou en die seun.” Charlie glimlag verlig. “Nou hoe raak dit my?” Pine kyk Charlie stil aan. “Sal jy kans sien, om as dit nodig is, ons na die plek in die berge te neem?” vra hy as Charlie wegkyk. “Ons sal moet gaan kyk wat daar aangaan. Die manne van Vrede sal seker ook ’n idee hê waar dit is, maar daar is ander plekke waar ek ook wil gaan kyk. Soos na die bakkie en waar jy die pistool versteek het.” “Wanneer?” “As ons klaar is by Conroy Bosman se plek. Intussen sal ek jou moet toesluit. Daar is nog die sakie van brandstigting ook. Ek is seker die manne wat jou probeer versuip het, gaan jou nie los nie, jy weet heeltemal te veel. Het jy nog die foto van die seun?” Charlie knik. “Ja, in my kamer.” Pine staan op en beduie dat die ander twee hom moet volg. “Kry dit. Ons moet
seker weet hoe lyk dit waarna ons soek.”
51
“Wat het jy in gedagte met die boot?” fluister Kat aan Jonnie Wilkinson van die duikeenheid, wat in ’n swart duikpak voor in die boeg van die rubberboot sit. Vyftig meter voor hulle lê Conroy Bosman se skiboot vasgemeer in die betonsloep langs die houtpier agter sy rivierpaleis. In die lig wat uit die huis oor die terrasse tot op die water val, kan hulle die boot se buiteboordenjin sien, ook die laaibrug waaragter die boot se sleepwa gereed staan ingeval die riviervlak vinnig styg. Die nag is donker, sonder maanlig, en die rivier is grafstil. Net af en toe kom iets na die oppervlak en bring die water in beroering. Selfs Parys se verkeer is stiller as gewoonlik, met net af en toe die gestotter van die lugremme van groot vragmotors op die rantepad van Potchefstroom af, of in die hoofstraat uit Sasolburg of Vredefort se rigting. Die rubberboot lê regoor Conroy se huis, verskuil tussen die riete aan die oorkantste wal. Dit hét toe ’n buiteboordenjin gekry, maar vir dit wat die twee polisiemanne beplan, moet die enjin vir eers doodstil wees. “Moenie worry nie,” sê Jonnie, “hulle sal nêrens heen gaan nie. As ek met daardie skiboot klaar is, sal ’n goeie outboard mechanic nie daardie enjintjie sonder ’n garage-joppie gestart kry nie.” Deur die nagsigverkyker kan Kat drie mans op die dek langs die swembad sien sit. Hulle het eers vleis gebraai en sit nou en rook, elkeen met ’n glas in die hand. Die een se arm is in ’n wit hangverband. Kat aanvaar dit moet die een wees wat hy in die koepel geskiet het toe hulle vir Charlie wou versuip. “Ons sal moet wag tot daardie drietjies gaan slaap, daar’s te veel lig van die gholfbaan hier agter.” Jonnie skuif hom gemakliker op die bodem van die rubberboot en trek die blou pet op sy kaalgeskeerde kop laer oor sy oë. Hy is nie ’n man van veel woorde nie. “Ons het die hele nag tyd,” sê Kat. “Pine sal nie die lasbrief kry voordat dit lig is nie.” Hy wens hy kan ’n sigaret aansteek. Hoe lank sit hulle nou al hier die huis
en dophou? Een van die mans kom met die trap af. Sy flitslig spring rond op die geplaveide paadjie en oor die blombeddings en rotstuine. By die pier klim hy in die boot en karring ’n ruk in die lig van die flits by die enjin. “Wat maak hy?” fluister Kat. Jonnie suig lug deur sy kiestande, vat die verkyker. “Hy check seker die buiteboord. Kyk of daar genoeg petrol is, daai klas van dinge.” Die enjin vat skielik met ’n skril lawaai wat die nagstilte aan flarde ruk. Die man jaag ’n rukkie die skellende enjin se revolusies op en dit klink asof die klank deur die water tot reg in die rubberboot insny. “Fok, wat nou?” Kat tel die R5-geweer op wat langs hom teen die rand van die boot staan. “Relax,” sê Jonnie. “Die vent check net of alles oukei is. Kyk daai toue waarmee die ding vasgemaak is, dit smaak my hy maak net seker van ’n vinnige getaway.” Die buiteboord luier ’n rukkie en word dan afgeskakel. Die man stap terug huis toe agter die springende kol van die flitslig aan. Op die dek gesels die drie nog ’n rukkie en gaan dan by die glasdeure in. Teen die rand van die huis se dak gaan ’n skerp kollig aan en die hele tuin word in sy geel lig gebaai. Kat druk met sy stewel aan Jonnie en fluister: “En nou? Die lig maak dit moeiliker, of hoe?” Jonnie is ooglopend nie ’n perd wat hom aan klein dingetjies steur nie. Hy lig sy kop en loer onder die pet se rand uit, spoeg ’n vuurhoutjie waaraan hy gekou het oor die boot se rand en trek weer die pet se skerm oor sy oë. “Nee wat, hulle sal ons nie sien nie, tensy hulle wagte uitsit. Ons wag ’n ruk. Met al daardie vleis en brandewyn in hulle se lywe slaap hulle nou-nou.” Hy skuif hom gemakliker en maak sy oë toe. “Roer my so oor ’n uur, dan beweeg ons. Moenie worry nie, hulle sal slaap.” Asof op Jonnie se bevel word die ligte in die huis die een na die ander afgeskakel. Dan is dit stil en niks roer nie, net ’n spul motte en goggas wat om die skerp kollig draai en vlermuise en naguiltjies wat nou en dan deur die wolk
insekte duik. Kat leun terug. Dagbreek is nog ver en hy kan net so wel die tyd gebruik om rustig te raak. Net nie slaap nie. Hoewel, met soveel adrenalien in sy are is dit buite die kwessie. Die wal waarteen die rubberboot verskuil lê, is eintlik dié van een van die talle beboste eilande hier by Parys. Toe hulle die aanslag beplan het, het hulle op ’n lugfoto gesien dat die wye rivierloop hier by die dorp baie eilandjies het. Die brandertjies klots sag teen die boot; Kat sug, maak sy oë toe en sy gedagtes vat die pad na ’n swartkop iewers in Johannesburg.
52
Toe Kat wakker skrik, hang die môrester soos ’n fietslig bokant die horison. Die oosterkim het nog nie regtig begin verkleur nie, maar hy kan die oggend in die grys lug ruik. ’n Mistigheid hang plek-plek oor die rivier. Dit sal hulle darem ’n bietjie minder opsigtelik maak wanneer hulle na die oorkant beweeg. Jonnie lê nog in dieselfde posisie in die boot en snork, sy kop gestut teen die boot se ronde rand. Kat druk sy stewel se punt onder sy kollega se arm in. “Hei, Jonnie, wakker word! Dis al amper dag.” Hy kry geen reaksie nie, skep ’n hand vol rivierwater en spat dit in die slapende man se gesig. Jonnie beur regop, dadelik wakker. “Hoe laat is dit?” vra hy en vee die water uit sy gesig. Kat het nog altyd ’n man bewonder wat so wakker word. Hy kantel sy horlosie. “Vieruur. Hoe lyk die lig?” Jonnie druk die pet uit sy oë en beskou die oosterkim. “Net reg, dit gaan netnou begin lig word. Almal slaap, ek sal nie lank wees nie.” Hy trek sy duikbril, snorkel en paddavoete nader. “Kom ons roei nader. Die beste plek is stroomop aan hierdie kant tot regoor die volgende huis, dan dryf ons tot by daai boom naby die pier.” Die stroom is nie sterk nie, want die rivier vloei hier breed en diep. ’n Ent by die volgende huis verby sê Jonnie: “Right, kom ons roei anderkant toe. Mik vir daardie wilger op die grens van Bosman se erf.” By die boom gly die duiker in die water in en spoel sy duikbril uit. “Dit sal nie help nie, die water is te vuil,” sê hy dan en gooi die bril en die snorkel terug in die boot. “Wag net hier en hou die R5 gereed. Miskien ly een van hulle aan slapeloosheid. Gee my daardie sidecutter aan, ek moet ’n paar goed gaan afknip.” Dan is Jonnie weg. ’n Streep borrels wys ’n rukkie waarlangs hy onder water
beweeg, maar dan is dit ook weg. ’n Hond begin blaf, maar dit klink vir Kat meer na die oorkant van die straat se kant toe. Charlie het hulle gewaarsku dat daar twee opgeleide Dobermanns by Bosman is wat snags los rondloop om die eiendom te bewaak. Dit sal Jonnie nie pla nie; hy is nie van plan om uit die water te klim nie.
Jonnie gooi die snytang in die rubberboot, trek hom op en val langs Kat in die skuit neer. “Dit sal ’n dêm goeie mechanic vat om daai skippie weer aan die gang te kry,” sê hy steunend terwyl hy sukkel om die paddavoete af te kry. “Daar is nie ’n pyp meer heel of ’n draad wat vas is nie.” Die son is nog nie op nie, maar die lug het nou ’n grysblou skynsel gekry. Duisende duiwe en vinke begroet die nuwe dag en die mistigheid lê nou witter op die water. Die skuifdeure by die huis gaan oop en een van die veiligheidswagte kom met die houtdek se trap afgestap, ’n spul kartondose in sy arms. “Hier kom hulle. Daardie bokse is seker die dwelms,” fluister Jonnie en tel die R5 op. “Wag, laat ons eers kyk wat gaan vir wat. Ons moet die hele spul eers hier by die boot kry, weg van die huis af.” Die wag laai die bokse in die boot, klim in en waggel na die enjin toe. Kat glimlag. “So ’n bootjie op die water is nou nie juis moederaarde so vroeg in die môre nie.” “Veral nie as jy die vorige aand die Captain-en-Coke gekap het nie. Hy’s in any case in vir ’n moerse surprise.” Jonnie grinnik as die man in swart aan die buiteboord begin karring. In die oggendlug dra klank ver oor die water en hulle kan hom hoor swets. Conroy kom nou met die trap af met nog bokse in sy arms. By die boot gee hy dit vir die wag aan en klim in. Hy skuif by die wag verby na die enjin toe en probeer dit ook aan die gang kry. Hy sak op sy knieë af en kom regop met ’n stukkende rubberpyp wat hy vir die wag wys. Dan verstyf Conroy en begin stadig om hom rondkyk – hy besef nou wat gebeur het. Hy trek ’n blink pistool
onder sy hemp uit. “Ek gaan nie langer vir Pine wag nie. Start daardie eierklitser van jou laat ons gaan.” Kat haal sy R5 oor. “Onthou as jy skiet, iewers by die huis moet daar ’n witkop laaitie ook wees. Ons soek eintlik net baie lawaai; dalk help dit om hulle te vries totdat ons daar is.” Jonnie gee die enjin se tou ’n pluk en dit begin skree. Hy gryp die stuurstang en laat die rubberboot met ’n draai onder die wilgeboom uitbeur, om ’n paar droë stompe wat teen die wal vasgespoel het, en dan pyl hulle op die manne in die skiboot af. “Polisie! Staan stil! Laat val julle wapens!” skree Kat en Jonnie deurmekaar bo die lawaai van die boot se enjin uit. Albei skiet kort sarsies in die lug in, en ’n duisternis voëls van alle groottes en kleure wolk op uit die bome, bosse en riete en druis oor die water en op teen die verblindende lig. Conroy skiet twee skote op die rubberboot en hardloop dan teen die skuinste op na die huis toe. Die wag bring ’n AK47 met ’n lang magasyn te voorskyn en laat die 7,62 mm-koeëls oor die water streep voordat dit stukke rubber uit die polisieboot ruk. Jonnie gee ’n pynkreet, gryp sy boarm vas en tuimel agteroor. “Spring, Kat, spring!” skree hy voordat hy die water tref. Kat duik kop eerste in die water in terwyl die AK die boot verniel. Toe hy weer deur die oppervlak breek, sien hy die boot volspoed op die skieter afpyl. Die wag sien wat kom, smyt die AK neer en probeer padgee, maar hy is te laat. Die rubberboot tref die skiboot se agterkant, skiet in die lug op en kom met ’n histeries gillende enjin op die wag te lande. Kat maak sy oë toe vir die skroef se vernietiging. Die enjin stol, en Kat maak sy oë oop. Die rivier vloei asof niks gebeur het nie. Die voëls is weg. Kat trap water en spoeg vuil rivierwater uit. Die polisieboot het half oor die skiboot verlep; die enjin vasgeslaan in wat van die wag oorgebly het. Skuins duskant Kat trek Jonnie Wilkinson hom met een hand uit bloederige water teen die rivierwal uit. By die laaste terras voor sy huis steek Conroy Bosman ’n oomblik vas, kyk terug na die verwoesting by die pier en hardloop dan met die trap op.
53
Voor Conroy Bosman se huis sit Pine Pienaar twee honde van agter die stuur van ’n ongemerkte voertuig en dophou. Langs hom sit ’n lang man met ’n blou denimbroek en wit T-hemp angstig vooroor in sy sitplek – Wandile Mutle, ’n speurder van Parys. Sy oë loer uit ’n skraal bruin gesig van onder ’n swart wolmus uit en is ook vasgenael op die twee gediertes wat die huis bewaak. Die oordadig modernistiese betonstruktuur is eintlik ’n oogseer tussen die statige ouer woonhuise met hul groot tuine en ou bome langs die rivier. Oorspronklik was dit een van die eerste huise in hierdie stil, boomryke straat van Parys. Al wat egter van die oorspronklike eiendom oorgebly het, is die tuinmuur van klip. Conroy het die ou huis afgebreek en ’n argitek van Johannesburg gekry om vir hom ’n huis te ontwerp wat ’n stelling maak. Jy moes sommer met een kyk weet hier woon ’n ryk man wat geen nonsens van ander vat nie. Hy het ’n elektriese heining bo-op die ou tuinmuur aangebring – mense mag kyk maar nie vat nie. Die motorhek is ’n twee meter hoë duiwelsvurk-kontrepsie wat net met afstandbeheer oopgemaak kan word. Die plek het egter ’n sagte pensvel, want by die rivier is nie ’n heining nie. Agter die swaar hek staan die twee honde wat die speurders se aandag opeis. Hulle beweeg nie, kyk net stip na die voertuig voor die hek. “Dis Dobermanns daardie,” sê Wandile gedemp. “Ek gaan norrefok daar in, daardie tweetjies is getryn om vrek te maak.” Die twee swart langbeenhonde met die bruin kolle bokant die oë maak nie ’n geluid nie, hul geel oë sê alles. Hulle storm ook nie soos keffertjies op die hek af nie, sit net en kyk met ’n effens opgetrekte bolip en kwyl wat drade trek grond toe. Die swart hare op hul kruis staan soos borsels. Pine draai die motorruit af en steek sy kromsteel op. “Die mense in die huis weet ons is hier. Die bleddie plek is gebou soos ’n uitkyktoring – kyk net al daardie vensters en kameras.” Hy skiet die dooie vuurhoutjie deur die venster en dit sing weg van die motor af. “Is jy seker dis die plek?”
“Ja, ons ken die plek. Het al klagtes gehad van paartielawaai hier tot laatnag. Conroy Bosman hou van sy paarties.” Pine steun sag, en dan sê die twee polisiemanne vir ’n lang ruk niks nie; drink die koffie wat hulle in die hoofstraat by ’n deurnagpadkafee gekoop het. “Ons moet ingaan,” sê Pine wanneer dit begin lig word in die ooste. Hy druk die leë plastiekkoppie plat en gooi dit op die motor se vloer. “Hoe de hel kom ons verby daai twee terminators?” Wandile skuif sy pistool na ’n gemakliker posisie – hy hou nie van honde nie. Hy lig sy denim op en vryf aan ’n paar wit letsels aan sy kuit; kyk dan glimlaggend op. “Wat sit jy so en smile?” vra Pine. Wandile trek sy broekspyp hoër op en vertel die storie. Ná kollege was hy ’n konstabel in Welkom se hof, en ’n gevangene het eendag ’n tuisgemaakte mes uitgepluk en begin hardloop. Hy het ’n paar mense wat hom probeer keer het met die mes bygekom en straataf verdwyn. Wandile het die skarminkel agternagesit, al was sy blink polisieskoene nie juis vir spoed gemaak nie. Hulle is oor die Rovers-klub se gronde, by die munisipale swembad verby en deur Welkom Gimnasium tot in Jim Fouchépark. Hier het hy tussen die huise probeer wegkom deur by die eerste oop hek in te hardloop en oor die aangrensende huise se heinings te spring; Wandile met sy blink skoentjies kort op sy hakke. By die derde huis het hulle in ’n agterplaas beland waar ’n boerboel in die sonnetjie lê en slaap het. Die boel het wakker geskrik toe Wandile bo-op hom beland en instinktief sy tande in sy kuit ingeslaan. Gelukkig was die eienaar in die agterplaas besig om vrugtebome te snoei en hy het die hond se bek oopgekry deur ’n vinger in sy agterent te druk. Wandile lag wrang, hy dink die werfetter met die mes hardloop nou nog. Pine grinnik; sy oë steeds op die honde. “Hel, dit lyk sleg,” sê hy, “maar ons móét by daardie hek inkom. Demmit! Ons wil tog nie inbreek nie, ons het mos ’n lasbrief.” Pine trommel nog ’n minuut of twee met sy vingers op die stuurwiel, haal dan die lasbrief uit sy sak en maak die motor se deur oop. “Kom, laat ons gaan.” By die staalhek druk Pine die interkom se knoppie.
“Ja?” Die blikstem oor die luidspreker klink maar vakerig. Pine hou die lasbrief voor sy gesig op asof hy dit lees. “Ons het ’n lasbrief om die huis te deursoek,” sê hy oor die interkom. “Waar is die eienaar?” “Ek is die eienaar. Waarna soek julle?” “Is jy Conroy Bosman?” “Ja, daar’s ’n CCTV-kamera teen die paal bokant jou kop. Hou die lasbrief in die lig, naby die lens.” Pine hou die stuk papier na die kamera uit, en ná ’n ruk kom die blikstem weer: “Dit lyk in orde; ek stuur iemand om die honde toe te maak. Wag net ’n rukkie.” Vir Wandile, wat heeltyd die honde dopgehou het, klink dit net te maklik. Volgens Kat is dié Conroy lekker hardegat en vol selfvertroue, soos ’n sukkelgat sakeman wat skielik iewers begin geld maak het. Dit voel nie reg dat hy nou so vriendelik is en so graag wil saamwerk nie, veral nie as hy dwelms in die huis het en moontlik ’n seun ook wegsteek nie. Hy behoort ten minste vir sy prokureur te vra. “Pine,” sê Wandile sag, “iets is nie lekker nie. Hy speel vir tyd.” “Ek dink ook so, maar hoe kom ons verby daardie twee vleisvreters?” Twee vroeë drawwers kom in die straat verby, kyk in die verbygaan agterdogtig na die twee mans en die vreemde motor. In die hoofstraat raas die verkeer en in die groot akkerbome koer duiwe met mening. ’n Ouerige swart vrou kom met twee leibande in haar hand om die hoek van die huis gesukkel. Sy is erg oorgewig en loop swaar; groet van ’n afstand in Sotho. Pine groet ongeduldig terug en beduie dat hulle haastig is. By die rivier begin ’n motorbootenjin karring sonder om te vat; Pine en Wandile kyk na mekaar, dan angstig na die vrou. “Dis anderster soort van honde hierdie,” sê sy met ’n verskonende skud van die kop. “Hulle sal vir my opvreet as ek haastig is.” “Ag hel …” Pine sug. “Dis seker so. Die goed word omtrent geprogrammeer en as jy van die program afwyk …
Wandile hardloop ’n ent langs die klipmuur af totdat hy by die huis verby sal kan sien as hy sy kop oor die muur kry. Hy spring teen die muur op, haak sy vingers oor die boonste ry klippe en trek hom op, versigtig om nie aan die elektriese drade te raak nie. “Wat sien jy?” “Daar is twee mense daar onder. Hulle laai bokse in en probeer die boot start.” Die vrou het die honde beveel om te sit, en terwyl sy die leibande met hul wurgkettings aansit, bly hulle geel oë op Pine gerig. Hulle trap ongeduldig met die voorpote op die plaveistene rond en maak nou sagte tjankgeluide. Pine kyk die vrou pleitend aan. Kat is daar agter en hy ken hom, die hel gaan nou losbars! Die vrou rem liggies aan die leirieme, maak ’n tonggeluid en die honde volg haar omkyk-omkyk na die huis se hoek. “Ek sit hulle net by die kampie,” verduidelik die vrou oor haar skouer. “Ek kom nou weer.” “Ai tog,” kreun Pine. Maar daar is nou wragtag bokkerol wat hulle kan doen. As hulle oor die hek of die muur probeer spring, is hulle kaiings of maalvleis of albei. “Wandile!” skreeu hy vir die speurder wat steeds aan sy vingers hang. “Wat doen hulle?” “Daar is een in so ’n swart uniform, hy laai goed in die boot. Dit lyk soos bokse. Die ander een sukkel nog met die enjin.” “Is daar net een in uniform?” “Ja.” Wandile laat los sy greep en land op sy voete. “Daar moet twee wees,” sê Pine. “Die een wat Kat raak geskiet het, moet seker in die huis wees, of hy is daarmee heen.”
54
By die rivier klap die skote, beslis ’n R5! Dan die kenmerkende gehoes van ’n AK en die geskreeu van ’n buiteboord wat buite beheer is. Pine en Wandile gryp albei twee van die hektralies vas; as hulle dit kon oopbreek het hulle. Dan meng die gille van iemand wie se siel uit sy liggaam geskeur word met dié van die enjin. En dan is dit stil. Té stil. “Wat de hel het dáár gebeur?” Pine pluk sy Z88 uit en laat gly ’n koeël in die loop. “Ek weet nie, maar kry daai skietding van jou.” Die hek begin oopskuif, en daar is skaars ’n skrefie of die twee polisiemanne wurm hulle in en nael na die hoek van die huis. Half op die motorboot en half op die houtpier lê die rubberboot soos ’n verfrommelde bierblik. Kat kom uit die water; die polisieduiker kruip bebloed op die wal uit, en hoër op, anderkant die houtdek, hardloop iemand: Conroy Bosman! Hy hardloop met ’n trap op en pyl op die oop skuifdeur af. Pine neem die vuurposisie in: voete uitmekaar, knieë gebuig, pistoolarm gestrek. “Polisie!” skreeu hy. “Staan stil! Gooi weg die wapen!” Conroy skiet in die hardloop twee vinnige skote in Pine en Wandile se rigting, en pluk die skuifdeur agter hom toe. “Ek het die kind by my!” skree hy vanuit die huis. “Raak ontslae van julle vuurwapens! Nou! Ek sal wragtag nie huiwer om hom te skiet nie.” Conroy se stem klink histeries. Hy is ooglopend nie aan sulke situasies gewoond nie. Hy laat ander gewoonlik namens hom optree; ’n voetsoldaat is hy allermins. “Oukei! Oukei! Bly net kalm!” Pine sit sy pistool op die trap voor hom neer en beduie met ’n knik vir Wandile om sy voorbeeld te volg. Dit het nou skielik ’n gyselaarsituasie geword en as die gyselaar ’n kind is, is die tyd vir Tarzan speel verby.
Conroy staan ’n oomblik besluiteloos deur ’n venster en kyk. Hy kan die twee speurders skiet en dan met die Mercedes wat in die motorhuis is, probeer wegkom, maar by die rivier is nog twee bliksems. Een is gewond en buite aksie, maar die ander een, die een met die swart snor wat hy by Lekker Rus gesien het, is anderkant die swembad besig om die water uit sy pistool se magasyn te skud. Dié een sal hom kry voordat hy met die motor by die hek uit is. Wat hy nou nodig het, is tyd om te dink. Maar padgee sal hy, met die koepel is hy klaar. “Sit julle hande op julle koppe en draai om!” skree Conroy deur die venster. “Stap weg van die huis af!” Hy soek rivierlangs, maar die een met die swart snor het verdwyn. “Hou aan stap!” skreeu hy vir Pine en Wandile. “Ek waarsku julle, as julle my volg, is die seun dood. Ek sal nie huiwer nie!” Die twee speurders hoor die skuifdeur se sleutel in die slot draai en laat sak hul hande. “Fok, dit is nou ’n kakspul,” grom Pine en tel sy pistool op. “Het jy ’n nommer om die werfetter te bel?” “Ek sal gou die stasie bel.” Wandile klap sy selfoon oop, druk ’n nommer en stap ’n paar treë weg. “Sê hulle moet nog mense stuur. Ons sit nou met ’n gyselaarsituasie en die plek moet afgekordon word,” roep Pine agter hom aan. Kat kom om die dek geloop; waterdruppels blink nog op sy swart hare en snor, drup van sy klere af. “Wat het daar onder gebeur?” vra Pine. Kat vertel in telegramstyl. “Dit was soos iets uit ’n Rambo-fliek.” Hy beduie na Jonnie wat teen die skuinste na die huis aangestrompel kom, hy druk ’n lap teen sy skouer vas en sy gesig is vertrek van pyn. “Ons moet hom by ’n dokter kry.” “Kat, tot tyd en wyl ons die plek afgekordon het, moet jy solank aan die voorkant van die huis gaan stelling inneem. Netnou hol die bliksem in die straat af.” Kat knik, vryf water uit sy gesig en hardloop na die hoek van die huis.
Wandile kom teruggestap met ’n stuk papier in die hand. “Hier’s die huis se landlynnommer.” Hy gee die nota aan Pine. “Hulle stuur mense om te help.” Pine knik na die duiker wat op ’n stoeptrappie met sy kop in sy hande sit. “Bel sommer die ambulans ook, Jonnie is geskiet.” “Die paramedici is op pad.” Wandile hou sy vinger in die lug om te wys hulle moet luister – in die verte kan die geloei van die sirenes gehoor word. Pine sleutel die nommer wat Wandile vir hom gegee het in sy selfoon in. Hulle kan die foon in die huis hoor lui. “Antwoord,” grom Pine. Ná ’n ruk druk hy die foon dood en skakel weer. Geen reaksie. Die vrou wat die hek oopgemaak het, kom versigtig uitgestap by ’n buitekamer wat los van die huis staan. Haar oë is wyd van vrees, haar gesig strak en vaal van die skok. “Is die honde nog toe?” vra Pine. Sy knik. “Die seun, die een met die witkop, is hy nog reg?” vra sy en vee twee groot trane met die punt van ’n geblomde voorskoot van haar wange af. “Jô-jô, die geskiet … Ai-ie.” Sy skud haar kop; vra weer: “Is hy darem nog reg?” “Hy’s in die huis by meneer Bosman. Maar hy’s nog reg.” Pine kyk haar fronsend aan. “Wie’s jy?” “Hulle noem my Celina hier; ek kyk na die kind. Ek doen ook die was- en die strykwerk hier by die mense.” Sy snuif en vee nog trane met haar hande se kussings uit haar oë. “Die kind het nog nie sy brekfis gehad nie, wie sal dit nou gee?” Sy klink byna beskuldigend. “Ek was gister ook nie hier nie, meneer Bosman het gesê ek moet loop by my mense in die location. Hoe sal hy nou eet? Kan ek maar by die kombuis loop en vir hom gaan kos maak?” “Ek weet nie, want ek weet nie hoe werk die man daar binne se kop nie.” Pine klap sy foon weer oop. “Ek moet eers met hom praat.” Hy skakel weer die nommer. “Ja?” Bosman klink kortaf, senuagtig en onseker oor wat volgende gaan gebeur. Alles wat ’n ontvoerder nie moet wees nie.
“Conroy, dit is brigadier Pine Pienaar van die SAPD hier. Ons moet praat.” “Ek wil nie met jou praat nie. Kry iemand met gesag met wie ek kan onderhandel.” “Meneer Bosman, daar is ’n span van Johannesburg af op pad, tot tyd en wyl is ek in bevel. Jy kan met my praat, maar eers moet die seun uitkom.” Conroy is ’n ruk stil. “Ek wil ’n helikopter hê,” sê hy dan. “Daar’s een wat werk by die eiland met die nuwe ontwikkeling.” “Luister nou mooi na my, meneer Bosman …” Pine klink soos ’n pa wat met ’n stout seun praat. “Ons kan praat oor die helikopter, maar eers moet jy die seun uitstuur, dan kan ons verder gesels.” Pine is dankbaar oor die kursus wat hy geloop het oor hoe om ’n gyselaarsdrama te hanteer. Dit was lank gelede, maar hy onthou nog party van die goed: Moet nie die skarminkel kwaad maak nie, moet hom nooit in ’n hoek druk dat hy voel daar is nie meer ’n uitweg nie. Dít is wanneer hulle onverantwoordelik raak en die gyselaars begin skiet. Laat hom altyd dink dat hy nog ’n agterdeur het – dat hý eintlik in beheer is. “Jy’s mal in jou bleddie kop, poot!” bulder Conroy. “Dink jy ek is fokken stupid? Die seun bly, hy’s my enigste assuransie om hier uit te kom!” “Oukei, oukei,” sê Pine rustig. “Ek weet hoe jy voel, Conroy. My base sal die helikopter kry, maar hulle sal iets in ruil wil hê. Jy sien hierdie tipe onderhandeling moet van twee kante af kom. Dit is ’n give-a-little-en-take-alittle-situasie. Ek ken hulle, weet hoe hulle dink, en hulle kan lekker hardegat wees.” “Ag, fok jou!” Conroy gooi die gehoorstuk neer. Pine bel weer, laat die foon ’n rukkie in die huis lui. Druk dood, skakel weer. “Fok, poot!” skreeu Conroy as hy weer optel, “ek wil nie met jou praat nie! Jy praat van jou base, nou … ek soek húlle!” “Wag nou, moet nie weer aflui nie! Asseblief! Ek wil weet of ek Celina kan instuur om kos te maak, sy sê die seun het nog nie ontbyt gehad nie.”
“Ek sal vir hom Post Toasties gee,” brom Conroy en smyt die foon weer neer. Voor die huis in die straat hoor Pine motors en ambulanse stilhou. “Celina, jy moet vir die mense die hek gaan oopmaak, maar bly weg van die huis,” sê hy en vat vir Jonnie onder sy gesonde arm. “Kom, ek help jou vorentoe, die ambulans het gekom. Wandile, bly jy vir eers hierdie kant.”
55
Teen die middag is alles op hul plek om die huis. Die straat is afgesper, voor die hek is ’n kommunikasiesentrum in ’n kombi opgestel, omring deur ander polisievoertuie. Skerpskutters van die taakmag se spesialiseenheid is op strategiese plekke om die huis geplaas, en ’n gyselaar-onderhandelaar is van Johannesburg af ingevlieg. Conroy wil egter niks van haar weet nie – hy verkies skielik weer vir Pine. ’n Vroumens sal glo bevooroordeeld wees met die kind in die prentjie. Die twee honde is deur die Dierebeskermingsvereniging verdoof en verwyder – Pine wil van alle kante toegang tot die huis verseker en nie die hele tyd wonder waar die honde is nie. Kat stap af na die pier waar die forensiese span die vernielde lyk verwyder het. Op die houtblad het die bloedvlekke swart verkleur ná ’n paar uur se Vrystaatse son, en orals swerm brommers en vlieë nog op. Agter die boomtoppe op die oorkantse wal stapel daar egter wolke; die reën sal wel die pier skoon was. Die skiboot se agterkant lê laag in die sloep se vlak water, erg beskadig deur die slag waarmee die rubberboot dit getref het. Kat herleef daardie oomblik dat hy sy oë moes toemaak; ruik die rivierwater aan sy klammerige klere. Hy kyk teen die terrasse op na die huis. Nie ’n roering nie. Hy wonder oor die seun en hoe hy op die skote moes reageer het. Kat het in ’n stadium vir Conroy in sy visier gehad, maar dit was te ver vir die negemillimeter. Hy skop na ’n stuk van die skiboot. Hulle moet die kind vinnig daar uitkry. Hy kan hom net voorstel hoe bang die mannetjie daar in die huis saam met die mal bliksem moet wees. En hoe lank is hy nou al sonder sy ma? Kat se selfoon vibreer. “Yes, Pine?” “Jy kan nie daar rondstaan nie. Bosman kan jou deur die venster probeer skiet. Kry dekking.” “Waarom dink jy staan ek hier? Ek wil hê hy moet probeer; dit sal die skerpskutters ’n kans gee.” Hy klap sy foon toe, steek sy hande in sy sakke en laat sy oë beweeg oor die plekke waar hy weet die manne met die lang gewere
en die teleskope geplaas is. Een waai vir hom en hy waai terug. Kat loop al met die tuinmuur langs terug na die hek toe. By die buitegeboue tref hy die vrou aan wat in die huis werk; sy staan swyend in ’n oop deur. Kat groet haar in sy beste Zoeloe. Vra na haar naam. Terwyl sy antwoord, begin ’n plan in sy kop broei. Hy moet net haar vertroue wen. Kat steek ’n sigaret op, hou die pakkie na haar uit maar sy skud haar kop. Hy sal geduldig moet wees. Hy hou die vrou uit die hoek van sy oog dop, merk haar veelkleurige kopdoek, dofpienk oorrok met byende voorskoot, die kommer op haar gesig. “Werk jy hier?” vra hy so simpatiek moontlik. Die vrou knik en kyk skuins af grond toe. “Help jy met die kind?” “Ja,” sê sy. “Gaan hy al skool toe?” Sy skud haar kop. Beduie met haar hand heuphoogte, vingers bymekaar en na bo gepunt. “Hy is klein,” sê sy. “Net vier.” Kat rook in stilte. Op die rivier roei ’n man en vrou met ’n swartkopdogtertjie stadig in ’n skuit verby. Hy kan sien hulle is nuuskierig oor wat by die huis aangaan. Hulle het seker ook die skote gehoor. Die vrou kyk vlugtig na Kat, dan oor sy skouer. Kat vra: “Wie se kind is hy? Waar kom hy vandaan? Dis seker nie dié man se kind nie.” Sy skud haar kop. Sy weet nie, maar sy het gehoor die pa en ma is dood. Sy het gehoor dis die man van die huis se broer se kind. Kat skiet sy stompie tussen ’n paar struike in, hou die rook ’n ruk in sy longe en blaas dit dan in ’n dun straaltjie die lug in. “Ons moet hom daar uitkry,” sê hy. “Dis wat ons wil doen.” Sy stem is sag; hy hou haar reaksie dop. Die vrou knik. Sy weet. Sy kyk Kat weer vlugtig in die oë en vir daai oomblik sien Kat die pleitende uitdrukking, en hy weet hy kan maar vra: “Hoe kan ek in die huis kom sodat daai mal man my nie sien nie?” vra hy.
Sy kyk weer skuins af grond toe en druk haar hand in die voorskootsak; bring ’n bossie sleutels aan ’n stukkie hout te voorskyn. Sy haak versigtig een van die sleutels van die ring af en gee dit aan Kat. Sy maak met haar hand ’n bultjie in die lug – aan die oorkant beduie sy. Daar is ’n deur wat na ’n kelder gaan. Die man het vir haar ’n sleutel gegee omdat die wasmasjien en tuimeldroër daar staan. Dis waar sy die wasgoed doen. Soms speel die kind ook daar. Kat neem die Yale-sleutel by die vrou. “En die alarm?” Sy skud haar kop. “Wasdae skakel hy dit af sodat ek daar kan werk.” Kat draai om, skreef sy oë teen die skerp lig. Hy draai die sleutel in sy hand rond. Sy plan kan werk, maar hy sal eers met Pine moet praat. Hy draai weer om na die vrou. “Waar is die ander man, die ander een met die geweer,” vra hy. “Hy het gebloei,” sê sy en beduie na haar skouer. Sy sê die dokter was by hom. Sy wys oor Kat se skouer na ’n venster op die tweede verdieping. “Die spaarkamer, dis waar hy is.” “Celina,” vra Kat ná ’n ruk, “kan jy my vertel hoe lyk die huis binne?”
56
Kat skuif die deur van die kombi oop waarin die beheersentrum is, en Pine, wat met die telefoon besig is, maak vlugtig met hom oogkontak. ’n Tegnikus sit by ’n toonbank, oorfone om die kop, ’n bandopnemer voor hom. “Nee, hy antwoord nie,” sê Pine en gooi die gehoorstuk neer; kyk dan moeg op. “Yes, Kat,” sê hy en knyp sy neusbrug tussen duim en wysvinger vas. Kat gaan sit op die bank teen die kant van die voertuig. “Is jy besig?” Pine staan op. “Nee, die donner wil nie praat nie.” Hy haal sy pyp en vuurhoutjies uit die sak van die leerbaadjie wat hang oor sy sitplek, wat aan die kombi se vloer vasgebout is. “Kom ons gaan rook,” sê hy, en dan oor sy skouer aan die tegnikus met die oorfone: “Roep my, John, as iets gebeur.” Buite het die son agter die swart stapelwolke verdwyn en die strale waaier uit bokant die aambeeldkoppe. Dit is nog lig in die straat, en dit is daardie rustige tyd van die dag as die son nie meer skaduwees maak nie en die hitte verby is. Die mense in dié deel van die dorp is besig met hul vroegaandwandeling en hulle loop tot waar die geel polisiebande en flitsende ligte hulle keer. Hulle bespreek nuuskierig alles wat dié dag gebeur het en draai dan weer terug. Van hulle het by hulle ’n stootwaentjie waaruit ’n kind loer, sommige het ’n kind aan die hand. “Kom ons staan sommer hier teen die kombi,” sê Pine en steek sy pyp op; hou die vuurhoutjie uit vir Kat se sigaret. Kat blaas die rook die lug in. “Hoe lyk dit hier?” vra hy, sy oë op die groot vensters van die huis. “Hulle soek kos. Wil hê ons moet vir hulle vetkoek en tjips by die Vetkoekden in die hoofstraat gaan kry.” “En?” “Ek wil hê hy moet eers die seun los. Ek gaan nie sommer toegee nie.”
’n Jong vrou met ’n geen-nonsens-houding en ’n handsak oor haar skouer kom aangestap. Sy het ’n grys broekpak aan; valerige steil hare en ’n blinkraambril wat te groot vir haar gesig lyk. “Lily Verhoef,” stel Pine haar aan Kat voor. “Sy’s die amptelike onderhandelaar, maar Bosman wil nie met haar praat nie.” Kat skud haar hand. “Tog nie dié Kat Harmse nie?” vra sy skalks. Kat vee sy snorpunte met ’n kneukel uit sy mondhoeke, skakel sy beste glimlag aan. “Dit hang af van wat jy gehoor het.” “Nee,” sê sy en steek ’n lang, dun sigaret met ’n pienk Bic aan, “ek hoor maar by Annie de Villiers. Ons werk soms saam.” Ag hel! As Annie haar bron is, kan dit nie te goed wees nie. Pine beduie met die kromsteel na die huis. “Hy soek kos.” Lily skud haar kop, blaas ’n dun straal rook hemelwaarts. “Dis te gou. Speel eers die seunkaart.” “Of gaan haal hom self uit,” sê Kat hoopvol. Pine kyk ondersoekend na hom; hy ken Kat. “Wat het jy in gedagte?” “Ek het ’n plan.” Lily kyk hom skepties aan. “Annie het my van jou planne vertel, en ek sê: Nie solank die seun daar is nie, nie solank ek verantwoordelik is nie.” Hy hou nie van haar nie, dink Kat. Onder daardie broekpak is nie veel weg te steek nie, dit kan hy sien. Haar tande is geel van die rook. Verdomp! Sy’s nes Annie, luister nie eers na hom nie. “Wat het jy in gedagte?” vra Pine weer. “Ek kan in die huis kom sonder dat Bosman weet. Ek het ook ’n plan van die huis.” “Wat jy waar kry?” Lily staan met haar regter-elmboog in haar linkerhand gestut,
die sigaret voor haar regteroog. “By Celina.” Kat draai die stompie met die punt van sy stewel op die teerstraat dood. “Wie is dit?” Kat steek sy hande in sy sakke, ignoreer haar. Pine klop die pyp teen sy hak uit, blaas deur die steel. “Kom ons gaan gesels in die kombi.” Toe Pine omdraai, klap ’n skoot in die huis. “Wat die … Kom!” Pine pluk die voertuig se deur oop. “Kry Bosman op die foon!” bulder hy vir die tegnikus. Pine skreeu voordat die oorfone behoorlik op sy kop is: “Wat de hel gaan nou aan? Waar’s die seun?” “Toemaar, toemaar …” Die luidspreker is aan sodat die ander ook Conroy se stem kan hoor. “Ons is honger. Ons soek nog steeds kos.” “Wie het jy geskiet?” “Net ’n siek kokkerot bokveld toe gestuur. Daai pel van jou met die snor het hom klaar halfpad vrek gemaak.” Pine kyk na Lily en sy knik. “Oukei, oukei!” paai hy. “Bly net kalm, ons stuur vir julle kos. Hoe moet ons dit doen?” “Lily,” fluister Kat in haar oor, “ons moet die seun gaan haal, dis die enigste manier. Hierdie vent is besig om dit te verloor.” Sy skud haar kop. “Nee, die tyd is nog nie reg nie. Gee eers kans, die kind is nog veilig.” “Hoe de hel kan jy so seker wees?” As Pine die gehoorstuk neersit, vra Kat: “Hoe wil hy die kos hê?”
Pine sug en knyp weer sy neusbrug vas. “Iemand, nie jy nie, moet dit tot by die voordeur bring, die deur oopmaak, dit neersit en padgee. Hy sal binne wees met ’n pistool teen die seun se kop.” “Hoekom nie ek nie?” “Hy het so gesê. Hou seker nie van jou tandepasta nie.” “Wie gaan jy stuur?” “Vir Wandile. Hy moet net ’n kortbroek aanhê, sonder hemp.” “So, die alarm sal vir ’n rukkie af wees as hy die deur moet oopmaak?” “Ek aanvaar so.” Pine klink moeg. Hy kyk eers na Lily, dan na Kat en knik. “Die vent se kop raas. Ek sê ons doen dit.” “Wanneer?” “Ek skat so oor ’n halfuur. Ons moet eers die kos gaan koop.” Pine staan op. Hy hou nie van hierdie werk nie, hy is ’n doenmens, nie ’n praatmens nie. “Vertel my van jou plan, Kat.”
57
Dit is donker waar Kat langs die kelderdeur met Celina se sleutel in die hand staan. Hy wag in die skadu van die huis, weg van die kolligte wat die polisie aan die voorkant opgestel het. Die wolkbank is nou nader en af en toe verlig weerlig die omgewing en die donderweer rammel al hoe nader. Kat kan die reën op die wind ruik. Hy leun met sy skouer teen die muur; wag dat Pine op die selfoon die teken gee dat Wandile ingaan. Hy sal moet gou speel, veel tyd sal daar nie wees nie. Die taakmagmanne wat die rugsteun bied, hurk by die hondekampie se hek. Conroy Bosman stel nie in onderhandeling belang nie, hy wil net ’n helikopter hê en dié kan eers môre hier wees. Sy pelle met die rooi helikopter stel blykbaar ook nie belang om hom te help nie. Die bure sê hulle is die vorige dag vroegmiddag al van die eiland af weg, seker terug na waar hulle ook al vandaan gekom het. As dit waar is dat Conroy die gewonde duiker geskiet het, het die gevaar waarin die seun verkeer vergroot. Kat se selfoon vibreer en hy klap dit oop: Pine. Hy skakel die instrument af, beduie vir die taakmag en sluit die deur oop. As die bleddie alarm nou afgaan, is als in sy moer in! ’n Trap loop af na die kelderverdieping waar die wasmasjiene en die stryktafel staan – net soos Celina beduie het. Volgens haar huisplan bestaan die grondverdieping van die huis uit twee motorhuise, ’n oopplankombuis en ’n woonkamer wat uitloop op die houtdek by die swembad agter die huis en deur die voordeur na die straat aan die voorkant. Kat skakel ’n klein flitsie aan, en in die flou liggie kan hy aan sy regterkant ’n sementtrap sien wat oploop na ’n houtdeur. Dié deur lei na die woonkamer, en volgens Celina kan jy daarvandaan die voordeur sien. Kat klim teen die steil trap op, maak met die flits seker dat daar niks is om raak te trap of te skop nie. Gelukkig is dit ’n moderne plek sonder hout wat kan kraak; die trappe is almal van beton. As die bleddie deur na die woonkamer net nie kraak nie! Hy kyk om en sien die rugsteunmanne wat volg; by die deur
beduie hy dat hulle hom kans moet gee – wag vir sy bevel. Kat sit die flits in sy sak; vat die deurhandvatsel in sy linkerhand vas, pistoolloop in die lug in sy regterhand. Pine se teorie is dat Bosman dieper in die donker kamer met die seun sal sit en Wandile deur die venster sal dophou. As Wandile die kos neersit, sal Bosman hopelik die seun los om dit op te tel. Bes moontlik het hy die laaitie vasgemaak – jy kan nie juis ’n vierjarige se bewegings beperk deur net met hom te raas nie. Kat druk die deur se handvatsel stadig af en stoot die deur op ’n skrefie oop totdat hy die voordeur kan sien. Nie die deur of die handvatsel maak ’n geluid nie, maar sy hart klop so dat hy seker is dit kan in die straat gehoor word. Hy kan nie veel in die donker kamer sien nie en wil ook nie die deur verder oopstoot nie. Dowwe straatlig wat deur ’n venster val, verskaf effens hulp en soms verlig weerlig die kamer ’n rukkie. Waar de hel is Wandile? Wat vat hy so lank? Hy moet net van die straat na die donnerse voordeur loop, en as hy nie sy gat roer nie gaan hy nog natreën ook! En waar is Bosman? Is hy in die kamer, en het hy die seun by hom? As hy die seun saamneem wanneer hy die kos gaan kry, is die plan in sy dinges in. Alles hang af van waar die laaitie is. Sekondes word ure. Op die dak begin die reëndruppels val. Waar de hel is Wandile? Kat verbeel hom hy sien die koperknop van die voordeur stadig draai, maar die lig is te bedrieglik. Hy hou die kolf van sy pistool stywer vas, sy oë stip op die koperknop. Dan sien hy die strepie lig oor die vloer val – die deur is aan die oopswaai! Iewers in die woonkamer word ’n wapen oorgehaal. Klink soos ’n haelpomp! Hel, hy ís ernstig! Kat aanvaar dat die oorhaal bedoel is as ’n waarskuwing vir Wandile. In die deuropening verskyn twee papiersakke en iets wat na ’n warmwaterfles lyk, dan die speurder se kaal arms. “Maak toe die deur!” Bosman is iewers agter in die woonvertrek, naby die glasdeur. Volgens Celina se plan moet dit wees waar die binnebraai is.
Die arms sit die pakkies en die fles op die vloer neer en die deur word toegetrek. ’n Rukkie is dit stil, dan begin die reën teen die vensters hamer, die kos onaangeraak op die leiklipvloer. Hulle het dit oorweeg om ’n slaapmiddel in die kos te sit, maar Bosman is nie dom nie. Hy sal verseker die seun eerste laat eet. Bowendien, as hy agterkom iets is nie pluis nie, kan hy net heeltemal uithaak. Lily het die bande met die gesprekke tussen hom en Pine bestudeer, en haar taksering van Bosman se toestand is dat hy uiters onstabiel is. Eers wil hy nie met Pine praat nie, dan wil hy weer. Hy kon ook die gewonde wag uitgestuur het, maar hy het verkies om hom te skiet – as hy hom geskiet het. Dit dui op ’n gedragspatroon wat niks goeds vir die kind voorspel nie. Die slaapmiddel was dus nie ’n opsie nie. Die minute sleep verby. Niks beweeg nie. Niks is ook bo die geraas van die reën hoorbaar nie; dit donder en blits aanhoudend. Dan sien Kat dit in die flitsende lig: Bosman wat haelgeweer in die hand stadig na die voordeur beweeg! Die seun is nie by hom nie! Wys jou, die man se kop het hom gelos. Hy moes soos ’n neet aan die kind vasgeklou het, want soos hy gesê het, dis sy enigste skild. Kat beduie vir die manne aan die voet van die trap om te wag maar gereed te wees. Hy wil hulle nie saam met hom in die woonkamer hê nie, want hy weet nie waar die seun is nie en sy Z88 gaan baie minder lood in die kamer rondstrooi as hulle semioutomatiese wapens. Die taakmagleier hou ’n donderbuis na Kat uit, maar hy skud sy kop, daar is nie ’n manier nie – nie met die seun daar binne nie! Hy vat die pistool stywer vas, maak hom klein agter die kosyn en stamp die deur hard oop. Met Bosman in die visier druk hy die pistool teen die kosyn vas – daar is nie nou tyd vir waarskuwings en ander polisieprosedures nie, dit kan later uitgeklaar word! Kat sien hoe die haelgeweer regop ruk en na hom swaai. Die sneller word egter te gou getrek en ’n skoot hael slaan in die muur langs die deur vas, verwoes die een of ander glasding wat daar gehang het en vul die hele ruimte momenteel met skerwe. Kat trek die pistool se sneller en Bosman se lyf ruk soos dié van ’n marionet waarvan die toue deurmekaar geraak het. Die haelpomp val op die grond, maar die 9 mm-koeëls bly reën en laat Bosman ’n ruk lank ’n soort dodedans uitvoer,
asof die koeëls hom wil regop hou totdat die laaste lewe uit hom geruk is. Kat hou aan om die sneller te trek totdat die liggaam langs die haelgeweer lê; totdat die swaar hand van die taakmagleier met ’n “that’s enough, Colonel” op sy skouer neerkom. Kat stamp ’n vol magasyn in die pistool se kolf in. “Gaan soek die kind,” sê hy skuins na agter terwyl hy op Conroy Bosman se liggaam afstap, sy Z88 in albei hande vasgeklem. Kat kniel by die man wat uitgestrek op die vloer lê en sien sy oë dof word. Bloed borrel by sy mond uit; onder sy bolyf word ’n plas groter. Sy ooglede val toe, gaan dan weer rukkerig oop. Hy gryp die speurder se arm met bebloede vingers vas. “Hy … hy’s nie hie … hier nie.” Kat moet sy oor teen die bewende lippe hou om te hoor. “Wie? Wie is nie hier nie?” “Die … seun … Paul.” Sy oë val weer toe en sy asem roggel. Kat ruk hom aan sy skouer. “Waar is hy, Bosman? Waar is hy?” Conroy se oë gaan weer oop, maar hy kan die groot speurder nie meer sien nie, dit is asof daar ’n grys vlies oor sy oë getrek is. “Waar, Bosman? Praat! Jy’s moer toe man, demmit! Waar is die seun?” “By … by …Pa … Pa …” Sy liggaam ruk styf, sy asem raas by sy keel uit en dan val sy kop eenkant toe. Kat kom regop; sien dat Pine oorkant die dooie man kom kniel het. “Van wie praat hy? Pa? Die laaitie se pa is mos dood, of so het Celina gesê. Wie de hel is die pa waarvan hy praat? Praat hy dalk van daardie Vader van die dwelmgespuis?” Pine haal sy skouers op. “Nie ’n clue nie. Ons volgende stap is in elk geval in daardie rigting. Ons moet gaan kyk wat daar aangaan.” Die groot polisieman staan steunend op. “Generaal Mkhize wil ons juis oor daardie plek sien.” Wandile kom by die deur ingestap. “Die bure sê Bosman is gister met die seun en ’n tas hier weg,” sê hy, en toe hy die lyk op die vloer sien, vervolg hy sagter
en huiwerig: “Hy het hom glo teruggevat na ‘sy’ mense toe, het hy vir een gesê.” “Hy het nie dalk ook gesê waar dit is nie?” vra Kat hoopvol. Wandile boog sy mond vraend. “Nee, maar dit kan nie te ver wees nie. Hy was gisteraand weer terug. Maar ’n ou antie oorkant die straat sê sy het gister, toe Conroy weg was, die rooi-en-wit helikopter sien vlieg.”
58
“Kat, you did well, the force is proud of you. General Mboweni from North West Province agrees. Hy sal jou se blad vir jou skud, later se tyd.” Luitenant-generaal Mkhize, hoof van die Gautengse Valke, suig ’n slag aan sy blou waterbottel en stamp die prop terug. “It’s a pity we didn’t get the source of the drugs … and the boy, of course.” Hy staan op en trek die swart pak se baadjie reg, voel aan die groen das se knoop, stap na die klein yskassie in die hoek waar hy die bottel water omruil vir ’n koue een. Die man met die sout-en-peper-bokbaardjie en die intense donker oë kan jy soos altyd deur ’n ring trek. Sy kantoor is netjies en skoon, geen verrinneweerde dossiere wat op die L-vormige lessenaar rondlê, soos dit waaraan Pine en Kat al in hulle eie kantore gewoond geraak het nie. Benewens die rekenaar op die kort been van die L is daar ’n skoon lessenaaralmanak op sy tafel, ook ’n pennehouer en ’n foto van sy vrou en drie seuns. Agter die lessenaar is ’n vlagpaal met ’n landsvlag teen die muur gemonteer; langs die vlag ’n foto van president Zuma. Mkhize trek die blinders voor die venster op. “The officers from Vrede and Newcastle police stations know about this religious sect somewhere in the mountains. To my mind that is where everything starts, the manufacturing as well as the distribution.” Die generaal suig aan die koue water terwyl hy oor die sondeurdrenkte Goudstad se verkeer en dakke uitkyk na die boomryke noordelike voorstede. Hy stap terug en sak in die lessenaarstoel neer. “Maar daarvoor het ons net die woorde van daardie Charlie-mannetjie.” Sy donker oë blits na die twee speurders wat voor hom sit. “Julle weet dat om ’n search warrant te kry op die grond van daardie skarminkel se woorde alleen sal nie werk nie. He is an ex-convict.” Pine sit vorentoe in die diep gemakstoel, wat dreig om selfs sy groot lyf in te sluk. “Generaal, wat sê die mense wat iets weet van die plek?” “It’s a religious place of worship in a private game reserve, known for its contribution to the conservation of the rhino. The leader is suppose to be a man of God and he is relatively well known in the region. They do not allow any
visitors in the reserve, they are a very private lot of people.” “Wie is hierdie leier, Generaal? Het ons ’n naam vir hom?” Mkhize maak ’n dossier op sy lessenaar oop. “Hmm, it’s a Callie … ’m … Pa … Papenfus.” Die twee speurders kyk dadelik na mekaar. Is dit die naam wat Conroy Bosman wou gesê het? Mkhize suig aan die bottel en hou hulle ’n rukkie stil dop. “There is an APB out for the sister of that young detective Boeries from Welkom, did you know that?” Mkhize grinnik toe hy die verbasing op hul gesigte sien. Kat en Pine sê byna tegelyk: “Al weer!” “This time it is for real. She was last seen in the presence of a young man, in a restaurant in Welkom. One of the patrons said she seemed to be drunk or drugged, that’s why she was noticed.” “Het ons ’n naam vir die jong man, Generaal?” Mkhize kyk hulle betekenisvol aan. “Clinton Papenfus.” “Papenfus!” Pine maak vlugtig met Kat oogkontak. Volgens Charlie het daardie boer wat saam met hom in die stalletronk was, beweer hulle gebruik jong manne om meisies na die kommune te lok. Hy draai dan weer na Mkhize. “Nog ’n rede om te gaan kyk wat daar aangaan, Generaal. Waar is die plek?” “Pine, die manne van Vrede en Memel wat weet, sê daar is nie juis ordentlike paaie na die plek nie.” Mkhize sit aan sy bokbaard en trek. “Dis bietjie in die berge se wêreld daar iewers by Ingogo rond. Die enigste paaie is tweespore in die veld. Die mense ry maar waar die klippe sê hulle kan.” “Maar hulle weet darem waar dit is, Generaal?” “Yes, they know, and I want you to go and have a look. Pay the place a friendly visit, moet nie weer gaan nonsies maak nie, Kat. Dit is dalk rêrig net die kerk waar die mense bid. See if you can locate the boy and that sister of Boeries. Use that as an excuse for the visit. Get yourself to Vrede where a chopper will pick
you up and fly you to this place in the mountains. I want you to go there, talk to the man and keep your eyes open. If it is necessary, come back to get a search warrant and then we can send the Task Force in.” Die twee speurders sit sprakeloos. Die generaal kyk vraend van die een na die ander en as daar geen verdere reaksie is nie, staan hy op. Die twee speurders volg sy voorbeeld en staan deur se kant toe. “And Pine,” sê Mkhize en laat hulle by die deur omdraai, “see that you two are properly armed for the occasion. I have a bad feeling about this place.”
59
’n Helikopter is nie ’n Airbus nie. In ’n straler sien jy nie die grond nie, tensy jy jou nek verrek om by die klein venstertjie uit te loer na ’n lappieskombers daar ver onder, sonder mense en karre en goed wat rondbeweeg om jou ’n perspektief te gee op hoe hoog jy werklik is. Alles staan in elk geval stil en dit voel of jy in jou sitkamer sit. As die uitsig jou nie aanstaan nie, kan jy vra om langs die paadjie te sit en dan kyk na die ou goetertjies wat rondloop met koeldrank en tjoklits en wat kyk of jou veiligheidsgordel vas is. ’n Helikopter soos die Robinson R44 Raven – dit is altans wat die vlieënier gesê het dit is – is ’n anderste ding. Dit voel kompleet of jy in ’n glasborrel sit met klippe, bome en rante wat op ooghoogte by jou verbyjaag. Daar is nie ’n paadjie waarnatoe jy jou kan onttrek van die vreesaanjaende uitsig nie; ook nie ’n lugwaardin met mooi oë en ’n kort rokkie om jou aandag af te trek van wat buite aangaan nie. Kat het nie baie vrese en fobies nie, maar boaan sy kort lysie staan “hoogtevrees” in hoofletters. Langs hom sit Pine rustig en suig aan ’n dooie pyp, asof hierdie klas van dinge hom nie pla nie. Dit was toe nie nodig om Charlie saam te bring nie; die kaart wat hy van die gebied geteken het, was volgens die plaaslike wetstoeers goed genoeg om hom in veilige bewaring op Potchefstroom te los. ’n Polisieman van Vrede, kaptein Gerald Masiya, sit voor langs die vlieënier, majoor John Greeff. Pine het gevra dat hulle die roete moet volg wat Charlie daardie nag gery het. Op die oomblik is hulle bokant die R543-grondpad tussen Vrede en Volksrust om by die afgebrande plaashuis te kom waar alles begin het. Die pad kronkel van Vrede af tussen die rante deur, en Masiya lewer soos ’n toergids kommentaar: Langberg met die twee helderblou damme buite Vrede, die eerste Brakpan-grondpad (’n plaasnaam) wat afdraai na Memel … Ná ’n ruk kronkel die pad teen die hoërige Kwaggaskop uit, sak dan af na die tweede Brakpanpad waar Charlie daardie nag afgedraai het om van die polisie weg te
kom. By Steelsdrif, waar die plaaswinkel is waar hy uitgeklim het, gaan die pad met die staalbrug oor die Kliprivier. ’n Klompie kilometer anderkant die Kliprivier is die geraamte van die afgebrande kliphuis langs ’n groot dam. Die dakplate is verwyder en die sandsteenmure is swart gevlek waar die houtvensters gebrand het; drie swartgebrande skoorstene troon bo die verwoesting uit. John kyk oor sy skouer en beduie met ’n handpalm na bo: Moet hy land? Pine skud sy kop en wys met sy vinger dat hy net ’n slag moet sirkel – dan moet hulle die roete volg wat Charlie die nag gebruik het om te ontvlug. Die manne van Volksrust het die huis klaar vir leidrade gefynkam. Hulle vlieg tussen ’n hoë rant en die rivier oos bokant die tweede Brakpanpad tot op ’n punt waar ’n tweespoor suidoos daaruit wegdraai. Later vurk die tweespoor weer en hulle volg die pad na ’n hoë rant; in die agtergrond die donker voorlopers van die suidelike Drakensberg. John wys vir hulle waar Bothaspas in die verte op die R34 afkronkel na die warmer Natalse middellande. “Dáár is ook Mullerspas en Normandien se pas,” beduie hy en glimlag agter die aanhaakmikrofoon wat soos ’n bioniese vlieg langs sy mond hang. “Laasgenoemde is sleg. Jy het ’n vier-by-vier nodig.” ’n Ent verder, tussen hoë, plat rante, kry hulle die plek waar Charlie in die reën van die pad af is. Die uitgebrande Hilux-wrak staan nog daar met sy opgefrommelde neus teen ’n rots. Hulle land langs die bakkie op ’n afgebrande stuk gras. Van die voertuig se bande het net ’n hopie swart rubber en geroeste drade oorgebly waarop die bakkie se wielvellings rus; staalvere en drade is te sien waar die sitplekke was. Kat druk sy kop deur die venster waaruit Charlie ontsnap het. Hy ruik in die kajuit. “Hulle het die ding vol petrol gegooi.” “Die tenk het nie ontplof nie,” merk Pine op. Kat haal ’n rol tou uit die helikopter en hang dit oor sy skouers. “Dit was ’n dieselbakkie en volgens Charlie was die tenk leeg.” “En die tou?” vra Gerald Masiya. “Kaptein, nou gaan ons bergklim om uit te vind hoeveel Charlie gelieg het.”
“Hoekom vlieg ons nie?” “Ek sê ons volg in Charlie se spore.” Die polisiemanne sukkel teen die rant uit; kort-kort gly een op ’n los klip tussen die lang gras. Hulle beweeg dan al op die rand van die plato langs tot by die skeur waar Charlie probeer afklim het. “Sover klop sy storie,” mompel Pine en loer in die skeur af. Hy kan die glybaan van klippe sien waar Charlie op sy sitvlak af is, tot by die skurwe stam van die platdoring waar hy vasgeskop het. Pine en Kat kyk na mekaar. “Wie?” vra Pine. “Wie wat?” vra Kat agterdogtig. “Wel, een van ons moet hier af om te kyk of die pistool daar is.” Kat kyk na Gerald, wat heelwat kleiner is en ook baie fikser lyk. “Aikona! Hoekom ek?” protesteer die jong speurder. “Dis mos julle paartie hierdie, ek is net die guide hier rond!” “Kaptein Gerald …” Kat sit sy arm vertroulik om die speurder se skouers. “Jy wil tog nie hê daardie brigadier met die kostelike lyfie sonder nek moet hier afklouter nie?” “En wat van jou? Dis eintlik jou saak hierdie, jy is die ondersoekbeampte?” Kat maak die punt van die tou vas om die stam van ’n dik kiepersol. “Ek is nog erg beseer. Ek het ’n onderonsie gehad met ’n swartkop-tierwyfie met donker oë.” Pine is skielik die ene ore. “Wanneer?” Dit klink na ’n storie waarin Ann sal belangstel. “Wat het gebeur?” Kat glimlag geheimsinnig, sê niks, vee net sy snor met sy kneukel uit sy mondhoeke. Hy gee die res van die tou vir Gerald. “Toe, jy’s jonger en dunner as ons. Of wil jy hê ek moet rang trek?” Die speurder skud sy kop, trek sy leerbaadjie teësinnig uit en gee dit vir Kat aan
voordat hy die tou vat. “Wat is ek suppose om daar onder te loop soek?” “’n .22-pistool, ’n Beretta volgens die beskrywing, toegedraai in ’n reënbaadjie, in ’n gat of skeur in die rotswand daaronder by die boom iewers. Weet self nie mooi waar nie. Wees versigtig hoe jy dit hanteer, dis ’n moontlike moordwapen.” Gerald maak die tou om sy lyf vas en loop agteruit in die skeur af terwyl Kat en Pine die tou vashou. Soos Charlie destyds, veroorsaak hy ook ’n stortvloed los klippe wat onder hom in die skeur afstort tot by die doringboom waar dit verder oor die afgrond verdwyn. By die boom stut hy sy rug teen die stam, bekyk die rotswande van die skeur, sien die diep bars in die een wand. “Is hier slange?” roep by na bo. Sy pa het hom geleer jy keer nie sommer ’n klip om nie, daar kan ’n skerpioen daaronder wees. Jy steek ook nie jou hand sommer in enige gat of skeur nie. “Hoe de hel moet ek weet? Wat sien jy?” “Hier’s ’n bars in die rots. Ek sien iets, dit lyk soos ’n stuk lap of ’n plastieksak of so iets.” Kat knipoog tevrede vir Pine. “Dis hy daardie! Haal dit uit, maar versigtig.” “En as daar ’n bleddie slang ook in die gat is?” “Druk eers ’n stok in.” “Wat ek waar kry? Dis nie die Bosveld hier onder nie!” Gerald gooi ’n klip in die gat en as daar niks gebeur nie, doen hy dit weer. Hy wag ’n ruk voordat hy sy arm versigtig in die bars druk. Hy kry die reënbaadjie tussen sy vingers beet en trek stadig. Hy kan die gewig van die pistool voel. “Ek het dit!” skreeu hy na bo. “Julle sal my moet uittrek, ek het nie hande om mee te klim nie.” Gerald hou die toegevoude baadjie teen sy bors vasgedruk, en Pine en Kat help trek hom van bo af oor die los klippe teen die skuinste op. Pine sit die verbleikte baadjie op ’n droë, plat klipplaat neer en vou dit versigtig oop. Binne-in lê die .22-pistool, danksy die baadjie sonder veel roes. “Ai, Charlie,” mompel hy, “dit wil tog lyk of jy nie te veel nonsens gepraat het nie.”
60
In ’n nou kloof het hulle die groot kliphuis met sy buitegeboue gekry, die gebouekompleks is as’t ware vasgedruk teen die regaf kranse van die een kloofwand. Ver onder die helikopter kon hulle die hoë geëlektrifiseerde heining sien wat voor die huis verbyloop en oor die kloof se ander, minder steil wand verdwyn. Alles net soos Charlie gesê het. Pine beduie vir Greeff om nog hoër te vlieg, by die huis verby. Hulle volg die kloof tot waar dit wyer word en uiteindelik op ’n grasvlakte uitloop. ’n Ent verder, om die hoek van die voetheuwels waar die kloof uitmond, nestel nog ’n ou plaasopstal met ’n lang, plat skuur teen die kranse. Rook trek by ’n paar skoorstene uit. “Kom ons gaan terug na die ander opstal,” sê Pine in die mikrofoon, “maar land buite die heining. Ons is net op ’n vriendskapsbesoek en het nie ’n lasbrief nie.” Toe die skroef tot stilstand kom waar hulle voor die groot veiligheidshek geland het, kom twee mans, swartgeklee en met AK47’s in die hand, met lang treë van die huis af. Langs die hek staan ’n wit Jetta met een groen deur en ’n NDregistrasienommer in die koelte van ’n platdoring. Kat gryp Pine se arm en beduie. Pine kyk na die Jetta, maar begryp nie. “Daardie Jetta was in die koepel! Dit is Baby se lewensredder, Clinton Papenfus, s’n,” sê Kat. “Is jy seker?” “Hoeveel wit Jettas ken jy met ’n groen deur?” “John, bly jy en Gerald by die chopper,” sê Pine wanneer hulle uitklim. “Vat dit so ’n entjie weg, ’n mens weet nooit. Ons sal julle roep.” Hy draai om en kyk die vlieënier ernstig aan. “Wees gereed om vinnig pad te gee. As die poeding die fên strike, gee pad en kontak generaal Mkhize.” Die twee wagte staan nou by die hek, wydsbeen soos soldate in die rusposisie,
gewere voor die bors vasgeklem, donkerbril op die oë. Die een is groot en vet, die ander een net vet. Pine en Kat haal hulle identiteitskaarte uit. “Polisie. Ek is brigadier Pienaar en dis kolonel Harmse.” “Ja, ek het die kenteken op julle chopper gesien. Wat soek julle?” vra die grote. “Ons wil met die persoon in bevel hier praat.” “Het julle ’n lasbrief?” “Fok, pel!” Manne met Rambo-pakkies, swart combat boots en ’n hardegathouding het Kat nog nooit aangestaan nie. “Die man het gesê ons wil gesels, nie soek nie.” Die grote is blykbaar die enigste een wat kan praat, maar ook hy gluur nou net van agter sy bril se spieëllense na hulle. Kat wonder of dit die een is wat daardie skop in die toolboks van Charlie gekry het – broer Gerrie, het hy hom genoem toe hy die storie oorvertel. Kat maak ’n moedelose gebaar, en dan druk die groot ou ’n knoppie op die tweerigtingradio aan sy skouer. “Hier’s twee pote by die hek wat met u wil praat, Vader.” Hy sit ’n vinger op die mikrofoontjie in sy oor, luister ’n rukkie, en druk weer die radio se knoppie. “Reg so, Vader,” sê hy en stap na die groot hek, sluit die slot oop en wys dat hulle na die voordeur moet stap. “Vader sê hy het ’n paar minute om aan julle af te staan. Kan ek julle wapens kry?” Kat, wat vooruit gestap het, kyk nie eens om nie, snou net oor sy skouer: “Nee, as jy dit wil hê, kom vat dit!” Die twee manne staar die twee groot speurders agterna, kyk dan na mekaar en besluit dat dit nie die moeite werd is nie. Pine en Kat wag dat die wagte voor hulle by die deur ingaan, volg hulle dan oor die krakende plankvloer van ’n gang, verby die oop deur van die groot sitkamer waar hulle die leeuvel en die familieportrette sien waar Charlie met die “vader des huises” kennis gemaak het. By ’n deur verder af in die gang klop die groot wag. “Kom binne!” Dis ’n mooi stem, een waarna ’n mens kan luister.
Agter ’n groot eikehoutlessenaar sit ’n man wie se kaal kop op ’n lang, dun nek gebalanseer is. Hy dra ’n wit toga met goue borduursels, ’n houtkruis om sy nek. Die lessenaar het ’n in- en uitvakkie daarop; die in-vakkie is leeg; die uit oorvol, soos dit ’n goeie bestuurder betaam. Dit kan net die “vader” van die plek wees. Kat dink aan sy eie lessenaar in Johannesburg waar hy van die dossiere op die grond moet sit om op die lessenaar plek te maak vir sy voete. Die vertrek het ’n groot houtraamvenster met ’n uitsig op die krans waarteen die huis gebou is. Die ander mure word beslaan deur rakke vol boeke; meesal religieuse titels. Die man beduie na twee stoele voor die lessenaar. “Sit, menere,” sê hy kortaf. Pine en Kat is soos Charlie destyds dadelik bewus van die man se intense blou oë. Vader beduie vir die twee wagte dat hulle maar kan gaan. “Dankie, boet Gerrie, julle kan in die gang wag.” Die speurders hoor hoe die gevegstewels die plankvloer laat kraak; die klik van die deur as dit toegetrek word. “Ek verstaan julle het nie ’n lasbrief nie en wil net gesels. Hou dit kort asseblief, ek het nie baie tyd nie.” Pine skuif hom gemakliker op die stoel en kruis sy bene. “Meneer Papenfus,” sê hy – dit ís glo die man se regte naam, oorspronklik van Bethal in Mpumalanga. “Meneer Papenfus, ons is op soek na ’n vrou, mevrou …” Pine raadpleeg sy sakboekie, “Cathy Bradley. Ons vermoed dat haar seun uit die Vredefortkoepel ontvoer is en dat hy hom moontlik hier kan bevind.” Kat, wat die man dophou, sien hoe sy oë verhard. “Ek weet van ’n mevrou Bradley, maar hoekom hier? Hoekom soek julle haar hier?” “Ons het ’n man, ene Charlie Stevens, gearresteer en volgens hom bly sy nou hier nadat haar man in ’n plaasaanval vermoor en hulle plaas afgebrand is.” Papenfus beweeg nie; sy oë is stip op Pine wanneer hy praat. “Inspekteur Pienaar, soos ek gesê het, weet ek van hierdie geval. Hierdie Charlie van wie u
praat, het mevrou Bradley se mense vermoor. Ons het hom gevang en wou hom aan die polisie uitlewer, maar hy het ontsnap.” “En mevrou Bradley? En haar seun?” Pine blaai weer in sy sakboekie. “Wat het van hulle geword?” “Ek het nie ’n idee nie.” Sy oë flits van die een speurder na die ander, uitdagend, asof hy wil hê dat hulle die stelling moet weerlê. “Meneer Stevens beweer ook dat julle hier dwelms vervaardig. Nou … ek besef dit is net aantygings, maar ek sal graag wil hoor wat u reaksie daarop is.” “Dan is dit aantygings deur ’n huurmoordenaar en ’n tronkvoël. Ek is nie bereid om daarop te reageer nie.” Pine klap sy sakboekie toe en sit dit in sy hempsak. “So, u ontken dit?” “Inspekteur, in die Bybel leer ons dat alles in die skepping daar is om deur die mens gebruik te word, dwelms ook. Om gebruik te word, nie misbruik te word nie. Alle dwelms bevat positiewe medisinale eienskappe ook.” “So, jy erken dat julle hier dwelms gebruik.” “Moet nie woorde in my mond lê nie.” Die litteken aan Kat se kop begin kriewel. Hy hou nie van die kaalkopvent nie. Hy is ’n maergat, hardekwas mannetjie, met ’n persoonlikheid en ’n paar oë waarmee hy mense manipuleer. “Meneer Papenfus …” Pine sug en bly ’n rukkie stil. “Dit is vir my duidelik dat u nie baie lus is om met ons te praat nie. Dit is net ’n verkennende gesprek die, maar jy moet besef dat die instelling wat jy hier het nie bo die wet verhewe is nie en dat ek ’n lasbrief kan kry as dit nodig is.” “Kry dan jou lasbrief!” Die man staan op en lui ’n klokkie wat langs die inhokkie op die lessenaar staan. Die deur agter Pine-hulle kraak oop en boet Gerrie en sy vet pel kom in. “Die onderhoud is verby.” Papenfus se oë blits. “Alle gesag is afgelei van die
goddelike oppergesag en hier is ek sy verteenwoordiger – nie julle met julle mensgemaakte wette nie! Hier is vyf-en-twintig volwassenes en sestien kinders in hierdie kommune en hulle is in my sorg, soos bepaal deur die Vader. Bring jou lasbrief, maar onthou, ons sal nie val voor die magte en mensgemaakte wette van die sondige wêreld daar buite nie!” Sy stem het al harder en skriller geword totdat hy die laaste woorde uitasem skreeu. Hy is rooi in die gesig, sy oë is nou groot met ’n wilde lig daarin. Papenfus knik vir die veiligheidswagte, draai om en gaan staan bewend voor die venster. Die twee speurders staan op. “So mal soos ’n fokken haas,” sê Kat vir Pine, hard genoeg dat die man agter die lessenaar hom kan hoor. Hy klap die hand weg van broer Gerrie wat hulle by die deur uit beduie. “As jy aan my vat, donner ek jou deur daardie venster!” Kat draai hom terug na die man by die venster. “Wie se Jetta staan hier buite?” vra hy kortaf. Papenfus kyk vinnig op. “As jy moet weet, een van my seuns. Hy het kom groet voordat hy Durban toe gaan.” “Wie is saam met hom?” “Dit, Inspekteur,” hy kyk om en die witblou oë blits weer, “het niks met jou te doen nie. As jy wil weet, kry ’n lasbrief en kom soek die plek deur.” Kat gee ’n tree nader aan Papenfus. Die man is besig om sy nekhare verkeerde kant toe te vryf. “Meneer Papenfus, hy is laas gesien in die geselskap van ’n jong blonde dame wat daarna as vermis aangemeld is. Ons sal hom graag ’n paar vrae wil vra.” “Dan sal julle moet wag. Hy is veld toe, het die wildtuin se watergate gaan ondersoek. Maar julle gaan lank wag, dalk tot môre.” “Is hy ook deel van hierdie … ’m, kommune?” vra Pine. “Nee, Inspekteur. Hy is op universiteit en stel in hierdie stadium nie belang om hier te wees nie.” Kat tik met ’n wysvinger op die lessenaarblad. “As ek terugkom,” sê hy, lig sy vinger van die lessenaar en swaai dit dreigend na Papenfus, “en hier is ’n sekere
witkopmeisiekind en ’n witkop-laaitie gaan ek jou lang fokken nek vir jou omdraai!” Die twee wagte agter Kat span hul AK’s, en Pine gryp Kat aan die arm en trek hom terug. “Ons sal terugkom,” sê hy vir Papenfus. “Kom, Kat, dis nie die moeite werd nie.”
61
“Hier is nie ’n sein nie!” Kaptein Masiya beduie met sy selfoon toe Kat en Pine na die helikopter aangestap kom. “Ek kan dit sien,” grom Pine en sit sy foon terug in sy sak. “Kry ons eers hier uit, John, terug Vrede se rigting. Ek moet met Mkhize praat.” “Pine,” sê Kat toe hulle in die helikopter sit, “ek gaan nie saam nie, ek wil die plek dophou. Baby is daar, ek kon dit aan langnek se gesig sien. Die laaitie miskien ook, en ek vertrou nie daardie perd nie.” Pine haal sy keps af en vee die sweet met ’n sakdoek uit sy borselkop. “Hel, dis warm hier in die kloof.” Hy sug en bekyk sy vriend met die groot snor. “Hoekom het ek gedink jy gaan dit sê? Hoe sien jy die spul?” “Onthou jy die Jim Jones-slagting in Suid-Amerika? Hierdie vader-poephol is nou onder druk en hy is nie van die soort wat sal gaan lê en sê kom krap my pens nie.” “Wat beplan jy?” “Laai my bo-op die rant af, maar binne die heining. Jy sal nie voor môreoggend kan inbeweeg nie; laat ek intussen die plek dophou.” Pine gluur hom skepties aan. “Net dophou?” “Ja” “Belowe?” “Gaan skyt, Pine Pienaar! Ek ken jou, jy gaan vroegdag met die taakmag hier aankom en dan gaan die dinges wit teen die klippe sit. Daar’s kinders en vrouens daar binne, laat ek ten minste eers probeer uitvind wat hier aangaan.” Pine steek pyp op, loer oor die steel na die kompleks. Boet Gerrie en nog drie ander gewapende manne staan hulle van die hek af en dophou.
“Dit is dalk nie ’n sleg idee nie.” Hy kyk om hom rond. “Charlie het gesê hier is leeus en allerhande ongediertes … Onthou, dis ’n wildsplaas.” “Ek sal die R5 vat.”
Kat spring op ’n beboste klipkoppie op die plato van die kloof se westelike rant af. Hy het die R5, twee magasyne en die helikopter se verkyker by hom. “Ons het nou nie ’n kospakkie en ’n waterbottel vir jou uitstappie nie,” het Pine met ’n grinnik gesê voordat hy uitgespring het, “maar ek dink jy het genoeg reserwes in daai lyf van jou opgegaar om ’n ruk te hou.” “Sê vir die manne by die huis ek het soos ’n held gesterf.” “Oukei, en as ons iets van jou kan kry nadat die leeus jou opgevreet het, sal ons dit met volle eerbewys begrawe.” Pine het vir Masiya geknipoog. “Kan ’n mens ’n leeudrol met volle eerbewys begrawe net omdat jou pel se DNS daarin is?” Nou kyk Kat die helikopter wat in die verte verdwyn agterna en hy is skielik bewus van hoe alleen ’n mens in hierdie wêreld kan voel. Sonbesies sing die bosse aan die brand en ’n paar aasvoëls draai hoog bokant die kranse – miskien wag hulle net dat die leeus met hom moet klaarspeel. ’n Paar kroonkiewiete hardloop hangvlerk in die gras weg, probeer hom weglok van ’n nes wat iewers verskuil moet wees. ’n Kliplyster vra weemoedig van ’n rots af wat die vreemdeling hier soek. Kat kyk op in die wolkelose hemel, skreef sy oë teen die fel sonlig. ’n Blikkie Coke wat John in die helikopter gehad het, is al wat hom van die aasvoëls kan red. Kat trek die R5 se glystuk terug en met ’n patroon in die loop druk hy weer die veiligheidsknip op. As ’n honger leeuwyfie uit hierdie rooigras opstaan, wil hy nie nog sukkel nie. Hy stap na die rand van die plato sodat hy in die kloof kan afkyk. Om in hierdie veld te loop, is nie so maklik nie, dit vind hy gou uit. Jy kan nie hier loop en leeus in die lang gras soek nie, jy moet jou oë op die grond hou vir die los klippe tussen die graspolle. Agter ’n rots met ’n bars waaruit ’n bessiebos groei, sak hy op sy knie af. Hy lig die verkyker en die huis spring in fokus. Daar is die ou stalle waar Charlie opgesluit was, ’n paar rondawels en tussen die huis en die
selle ’n wit dubbelverdieping wat net woonkwartiere kan wees. Links is die wagtoring by die grensdraad. Bo in die toring is daar beweging – die flits van ’n verkykerlens. “Die spul is paraat, hulle wag vir ons,” sê Kat vir ’n bloukopkoggelmander wat uit die rotsskeur vir hom sit en loer. Ook die tweede opstal, teen ’n heuwel waar die kloof op die vlakte uitloop, kan Kat van sy stelling sien. Volgens Charlie is dit die dwelmfabriek. As Baby en die seun hier iewers is, sal hulle waarskynlik in die hoofhuis wees, of in die selle aangehou word. Miskien word die laaitie se ma ook aangehou; hulle sou ná Charlie se ontsnapping nie juis lief gewees het vir haar nie. Dit kan natuurlik wees dat Papenfus haar uit pure verliefgeit alles vergewe het, maar Kat twyfel. Daardie besete oë … Hy sal nie eens sy eie ma vergewe as sy kleintyd die verkeerde fopspeen in sy bek gedruk het nie! Vyfuur die middag sien Kat mense vanaf die opstal om die draai in die kloof opgestap kom in die diep skaduwee wat besig is om oor die kloof te kruip. Dit is mans en vrouens, almal met die wit oorrokke aan, sommige met kinders aan die hand. Kat verstel die fokus. Baby is nie onder hulle nie, die seun ook nie. Dit is maar ’n bedremmelde groepie, reken Kat. Dit lyk nie juis asof iemand bly is dat dit tjailatyd is nie; selfs die kinders loop soos bliksoldate, sonder gespeel of gekarring met mekaar. Ook nie ’n enkele seun tussen hulle nie. Dalk het hierdie mense iets teen seuns, of dalk bly hulle in die fabriek agter? Die mense loop by die wit dubbelverdiepinggebou in en op die grondverdieping flikker ligte aan. Die son verdwyn agter die beboste koppie op die rant waar Kat lê en die skaduwees vul die kloof. Twee van die wagte kom by die wit gebou uit, stap na die tronk en lig die dwarsbalk wat die een deur toehou. Terwyl die een wegstaan, sy vuurwapen gereed, trek die ander een die swaar deur oop, sit ’n emmer en ’n bak in die sel op die grond neer en maak die deur weer toe. Daar is beslis iemand in die selle, dink Kat. Miskien is dit waar hulle is. Daar is net ’n balk aan die buitekant van elke deur, in so ’n opset is sleutels seker nie nodig nie – die afvalliges is buite die omheining, nie binne nie. By die huis trek die wit Jetta met die groen deur weg, ry stadig met die
tweespoor langs en raak dan agter ’n rant buite sig. Kat kon met die verkyker sien dat Baby nie in die motor is nie, tensy sy in die kattebak gestop is. Dit was wel die lewensredder aan die stuur, en op die sitplek langs hom was daar beslis iets, maar of dit ’n mens is … Dit kon sy tas ook wees, die afstand en die swak lig het dit onmoontlik gemaak om seker te wees. Die frases van ’n lied – ’n kerklied – word stuksgewys op die ligte wind na Kat aangedra. Ek sien die veld, die bosse, berge, vlaktes … fluister grasse, strome, wind … Besig met aandgodsdiens, dink hy, sit die verkyker neer en gaan sit met sy rug teen die rots. Hy maak die Coke-blikkie oop en sit en kyk hoe die son agter die rante in die weste pienk strepe in die grou lug trek. Die veld is nou stil. Die nag is nie meer ver nie, en dit is daardie rustige stilte ná ’n warm dag … daardie tyd wanneer almal dankbaar is vir die koelte. Hoe groot is U; hoe groot is U … hoe heerlik Heer U grote naam … Dit is vir Kat onmoontlik om die twee pole bymekaar te bring. Die vredigheid en godsdienstige strekking van die sang en aan die ander kant die dinge wat regtig daar onder in die kloof gebeur. Sou die mense wat daar so sing van al Papenfus se dinge weet? Daar is oral menselewens wat verwoes word deur die dwelms wat hier vervaardig word. Hy dink weer aan die seun met die haelgeweer, die ma se lyk in die tuin. Papenfus moet ’n man met wonderlike talente wees om mense so te hipnotiseer, so te beïnvloed sodat hulle nie goed en kwaad kan onderskei nie. Die ding is ook dat hy nie die eerste is wat dit regkry nie, die wêreld se geskiedenis is vol sulkes. Die son is nou heeltemal weg, maar bo die westerkim is daar nog vlieswolke wat geel-en-swart katsterte maak. Dan klop ’n helikopter se rotors die rustigheid weg. Kat sit regop, gryp die verkyker. Dit kan nie nou al Pine-hulle wees nie. Dit is die rooi-en-wit helikopter wat in die koepel ook was, of dit lyk altans vir hom so. Dit het nou ooglopend by die ander opstal opgestyg en land met ’n wye boog voor Papenfus se hoofkwartier. ’n Paar manne met die kenmerkende swart uniforms klim uit en draf haastig die huis in. Daar is iets dringends aan hul bewegings. Kat sit terug en dink. Hy was nooit van plan om net te sit en kyk nie, sy belofte aan Pine ten spyt. Hy wil gaan soek na Baby en die seun. Dit is die belangrikste.
As dit moontlik is, sal hy ook vir Pine genoeg bewyse wil gee van dwelms om die taakmag se teenwoordigheid in die kloof te regverdig, voordat die spul daar onder dit dalk vernietig. Hy kom regop agter die rots. Die geboue is nou in donkerte gehul, en die vensters van die huis en van die onderste verdieping van die woonkwartier is nou gevul met ’n warm gloed. Hy sal eers gaan kyk wie in die tronksel is en dinge van daar af vat. Tussen Kat en die geboue is ’n heining, maar dit behoort nie baie probleme te gee nie, dit is eintlik om wild en roofdiere uit die gebouekompleks te hou en het hoogstens een elektriese draad op kniehoogte. Die geëlektrifiseerde heining met die uitkyktorings sorg dat sondaars soos hy nie kan inkom nie.
62
Die klomp in die woonkwartier se aandgodsdiens is nie speletjies nie. Nou kom die Magaliesburgse aandlied na Kat aangesweef, sy ouma se gunsteling. Sy het op ’n plasie in die Magaliesberge grootgeword, ver van alles behalwe die gevaar van die oorloë teen die Barolong. As die son gesak het, het hulle die ou rietdakhuisie se deur toegetrek en aandgodsdiens gehou. Kat kan hom voorstel hoe die woorde destyds in daardie beboste klowe moes opgeklink het. Hou oor my vannag u hande … Grote God wat altyd waak … Hy moet darem sê die klomp daar onder rek die lang note ’n bietjie lank vanaand, laat die weemoed behoorlik saam met die donkerte oor die landskap toesak. Kat wag totdat dit heeltemal donker is voordat hy dit teen die rant af waag, versigtig om nie onnodig klippe teen die skuinste te laat afrol nie. Die bietjie maan maak net genoeg lig om die grootste klippe en rotse te sien. Die heining is toe soos dit van bo af gelyk het, net ’n gewone agtdraad met ’n skokdraad op kniehoogte. Die een of ander ondier proes by die boskoppie waar hy afgelaai is, en Kat klouter vinnig oor die draad, bly dan op sy hurke in die lang gras luister voordat hy gebukkend hardloop na die rotstuin met die groot klippe en aalwyne halfpad na die selle toe. Dis die enigste skuiling wat hy met die verkyker daar van bo af kon sien. Hy hurk agter ’n groterige rots met sy rug teen ’n aalwyn se dik stam, takseer die gebou voor hom. Hy is nou baie naby die selle. In ’n klein tralievenstertjie is ’n flou, flikkerende lig, tien teen een ’n kers in een van die selle. ’n Geel streep lig val skielik oor die grond – ’n deur van die woonkwartier gaan oop en een van die wagte kom uitgestap. Kat probeer sy lyf klein maak agter die rots. Hierdie wagte ken hulle werk, maak nie veel lawaai nie. Dié een kom soos ’n skaduwee op die rotstuin afgestap. Kat druk die R5 se veiligheidsknip af; in die stilte klink dit soos ’n hamerhou op ’n aambeeld, sy asem jaag. Die wag stap
tussen die rotstuin se klippe in en gaan staan reg langs die rots waaragter die speurder skuil. Kat vee sy natgeswete hande aan sy broek af, vat die geweer stywer vas en druk sy rug teen die rots. As die vent ’n tree nader gee, gaan die stront spat en hy is seker dit gaan nie syne wees nie. Wat de hel maak die bliksem? Dan hoor Kat die geluid van ’n straal water teen klip. Hy glimlag, die man se nood moes groot gewees het! As hy hom wil uithaal, is dit nou die tyd, want sy aandag is op ’n ander plek. Maar dan sal die ander wagte hom kom soek. Laat hy maar eerder nie vir dinges soek nie, laat die ander man die eerste skuif maak. Kat hoor nog ’n paar ander geluide, toe die ritssluiter en daarna voetstappe. Hy loer – die man is op pad na die kliptronk. Hy voel aan die seldeur en stap dan na die heining waar hy die hekke sluit wat die twee komplekse skei. Hy kom aan die ander kant van die rotstuin teruggestap en verdwyn om die hoek van die woonkwartier. Kat wag ’n rukkie om te sien of hy terugkom. Die helikopter begin weer loei en styg binne ’n minuut met flitsende ligte op en vlieg oor die rant waar Kat geskuil het. Die kind en Baby kan daarin wees. Hy hoop eintlik so, dat hulle uit die pad kan wees as Pine met sy stormtroepe aankom! Kat hardloop na die tronk, volgens Charlie ’n ou stal wat in twee selle omskep is. Hy druk hom tussen die twee deure teen die klipmuur vas. Hy kan nie lank dáár staan nie, want al is dit donker sal sy wit T-hemp soos ’n puisie op ’n vark se agterent teen die donker muur uitstaan. Kat lig die balk van die seldeur waar hy die flikkerende lig gesien het en trek die deur oop, glip in en trek die deur weer toe. Op die bed sit ’n man by die flikkerende lig van ’n kers en lees. Hy het net ’n kortbroek aan, sy bolyf en bene is oortrek met swart hare, maar sy vel is spierwit soos dié van iemand wat nooit die son sien nie. Sy lang swart hare is ’n groot deurmekaar bos en sy baard hang tot op sy bors. Kat vee ’n slag met ’n kneukel oor sy snor, die vent lyk soos iets uit ’n rillerfliek. “Fok, pel! Wie of wat de donner is jy?” Die lang man lyk allermins verras. Hy staan op en Kat lig die R5 se loop. Dit is dalk ’n mal bliksem wie se varkies hom gelos het. In hierdie kommune vol teenstrydighede, simpel idees en geestelik bedonnerde mense – en dwelms! –
kan jy enigiets te wagte wees Hy is dalk opgesluit omdat hy hondsdol of so iets is. “En wie is jy?” vra die man met ’n diep stem. “Ek is van die polisie.” Dan onthou Kat van die man wat saam met Charlie opgesluit was. Hel, as dit nog dieselfde een is, is dit geen wonder hy lyk so nie! Kat vat ’n kans: “Charlie het my gestuur,” sê hy. Wit tande flits in die swart baard. “O, ou Charlie het dit toe gemaak.” Hy gee ’n tree of twee nader en steek ’n groot hand na Kat uit. “Calla van Niekerk,” sê hy. “Ek het vandag die polisie se helikopter deur die tralies gesien.” Kat skud sy hand. “Wat de hel maak jy nog altyd hier?” “Dis ’n lang storie, ou vriend. Maar kortliks, my vrou is hier en daardie slangnek met die wit jas melk my plaas leeg. Solank ek hier sit, kan ek niks doen om dit te stop nie. Wat soek jy, en hoeveel is julle?” “Ek is alleen en soek die vrou wat Charlie help ontsnap het se laaitie. Hier is ’n suster van ’n vriend van my ook.” “Ek weet nie van jou pel se suster nie, maar die vrou is nie hier nie. Sy en een van die wagte het die pad gevat. Dis juis hulle, die vrou en die wag, wat saam met Charlie hier uit is, maar hulle het net nie teruggekom nie. Ek dink hulle is weg Mosambiek toe.” “Wat van haar laaitie? Wat moet van hom word?” Weer die wit tande wat flits in die swart baard. “In hierdie helgat dink hulle nie veel van laaities nie, en daardie witkopvrou is nie lekker nie. Sy soek hom net om hom ook dood te maak, net soos sy haar man en skoonma op die plaas laat vermoor het.” Calla gaan sit op die bed en trek sy stewels aan sy kaal voete. “Sodat sy kan erf,” sê hy as hy die veters vastrek. “Charlie het nie daardie mense geskiet nie.” Hy staan op en trek ’n vuil kakiehemp oor sy kop. “Ons moet hier uit wees, hierdie spul is anders vanaand. Hier gaan iets gebeur. Ek weet nie wat nie, maar hulle het nog nooit so lank godsdiens gehou nie.” “Wat word van die seuntjies wat hier gebore word?”
Calla trek sy skouers op. “So, jy weet dat hier nie juis seuns is nie? Ek weet nie. Gee hulle uit vir aanneming, verkoop hulle of los hulle sommer op straat vir iemand om te kry, ek het nie ’n clue nie. Die wat groot genoeg is, word gebruik om jong meisies hiernatoe te lok. Maak hulle eers verlief, dan dwelmafhanklik en as hulle eers hier is, dan is dit maklik.” Hy kam ’n slag met sy vingers deur sy baard. “Seks met jong goed is dié mal plek se boustene; dwelms die sement wat die spul aan mekaar hou. Slangnek is altyd op soek na mooi jong meisies.” “So, die dwelmding is nie net Charlie se storie nie?” Calla draai om, lig sy matras op en haal ’n plastieksakkie vol kristalle uit. “Tik.” Hy gee dit vir Kat. “Hulle gee dit vir my om my kalm te hou. Hulle dink ek gebruik dit. Jy kan dit maar hou.” Kat steek die sakkie in sy broeksak. Nou het Pine genoeg rede om die plek te kom omkeer. “Maak hulle dit hier?” Calla knik. “Coke ook. Ek moes self in daai verdomde fabriek werk.” Hy beduie na waar die ander opstal moet wees. “Ek moes dit doen as ek my vrou wou sien, maar dit het nie gewerk nie. Ek wil niks meer met haar te doen hê nie, sy is ’n regte feeks.” Kat krap sy kop, oorweeg dit om te vra wat van Calla se vrou geword het, maar dink hy weet genoeg om sy eie afleidings te maak. “Waar kom die Papenfus vandaan?” vra hy. “Hy kon mos nie net uit die lug geval het nie.” “Slangnek is nie van hier nie, hy is lankal besig met hierdie speletjie. Was al in Zimbabwe en Mosambiek bedrywig met so ’n godsdienskommune. Dit was nog altyd net ’n rookskerm vir dwelmhandel. Hy maak baie geld, en as die owerhede sy stert vastrap, gee hy pad. Dit gaan hier ook gebeur, noudat die SAPD hier rondkrap, gaan hy weer ’n kraak maak.”
63
Toe hulle buite is, sit Calla die balk terug voor die deur. “Hulle pla my nie in die nag nie, voel net so nou en dan aan die balk. Hulle sal eers môreoggend agterkom ek is weg. Waarheen nou?” “Kan jy skiet?” Weer die wit tande as hy glimlag. “Ek was destyds in die spesmagte op die grens.” Kat druk die R5 se veiligheidsknip op en gee dit met nog ’n vol magasyn vir Calla. “Versigtig, daar is ’n patroon in die loop. Kom!” Hulle hardloop tussen die klippe van die rotstuin in, hurk in die skaduwees en sit stil en luister. Net naggeluide. Die wind wat heeldag liggies deur die kloof gewaai het, begin sterker word. Die maan hang bokant die kranse en vul die kloof met spookskadu’s. “Dit is te stil,” fluister Calla. “Hoekom?” “Dit is dié tyd van die aand nooit so stil nie. Hulle was gewoonlik skottelgoed, kry in die kombuis die kos reg vir ontbyt môre, maak reg om bed toe te gaan. Die slaapkamers se ligte is nog af, net die eetsaal se ligte brand. Dis nie normaal nie. Ek weet, want al wat ek saans te doen het, is om deur die tralies na hulle doen en late te staan en kyk.” Die helikopter verskyn weer oor die kloof se westelike helling. “Dáár’s lewe, die helikopter is nogal bedrywig.” “Hulle neem gewoonlik die dag se dwelms in die nag weg en stoor dit op ’n buurplaas wat die een of ander vent ‘geskenk’ het in ruil vir ’n nuwe jong vrou.” Die helikopter gaan land buite sig voor die huis. “Snaaks,” mompel Calla, “hulle
bêre die ding gewoonlik by die ander kompleks om die draai. Dit lyk of hulle vannag weer wil vlieg.” Kat kry ’n snaakse gevoel op sy maag. Die winkelhaak teen sy kop begin kriewel en die stukkie oorskulp wat iewers in ’n populierbos in die Vrystaat lê, begin jeuk. Hoekom is alles so anders vanaand en is die helikopter so besig? Die helikopter se skroef klap tot stilstand; die geloei van die turbinemotor word sagter. Hel, die Papenfus vent is mal genoeg om … “Kom!” sê Kat. “Kom ons gaan kyk wat aangaan!” Hulle hardloop gebukkend na die woonkwartier, hurk ’n oomblik onder ’n venster voordat hulle regop kom en inloer. Hulle versteen. Dit is asof hulle nie kan registreer wat hulle sien nie. Die kinders lê op matrasse op die vloer, al langs die mure, oënskynlik rustig aan die slaap. Die mans en vroue lê koppe op die arms by die tafels, party het van hulle stoel afgegly en lê uitgestrek op die vloer. “So ’n bliksem!” grom Calla hard. “Fok, slaap hulle?” vra Kat, nie dadelik in staat om die volle implikasie van die toneel te begryp nie. “Nee. Kyk na die spuitnaalde op die tafel. Die dooie donner!” Calla staan op en stap by die glasdeur in, reguit na ’n swartkopvrou wat met haar kop op die tafel lê. ’n Ruk staan hy net na haar en kyk; trane loop in sy swart baard af. Hy vryf met ’n bewende hand hare van haar voorkop weg. “Jou vrou?” vra Kat sag. Calla knik net. Kat haal die Z88 uit sy holster, laat gly ’n koeël in die loop en beweeg tussen die lyke deur. Dit lyk of die volwassenes eers die kinders gemaklik gemaak het voordat hulle die een of ander inspuiting toegedien is. Hulle moes daarna by die tafel gaan sit het vir dieselfde behandeling. Oral op die tafels lê Bybels en liedereboeke rond, party nog in lewelose wit vingers vasgeklem. Ook op die vloer lê Bybels asof dit in ’n laaste krampagtige oomblik van nugterheid weggeslinger is. Baby is nie een van hulle nie. Ook nie die seun nie.
Kat draai na Calla en neem die groot man aan die arm. “Kom, ou vriend, ons moet hier uitkom.” Calla vee sy gesig aan sy hempsmoue af. Hy staar stil na Kat. “Kom, Calla.” Calla laat sy oë stadig oor die vertrek gaan. “Jy kan maar ’n kraak maak,” prewel hy skor. “Ek soek die slangnekbliksem.” Hy druk die R5 se veiligheidsknip af, draai om en begin met lang, stadige treë loop na die dubbeldeur wat na die kombuis lei. Calla skouer die deur oop; Kat op sy hakke. Aan die oorkant van die kombuis storm iemand hulle tegemoet – broer Gerrie. Hy pluk ’n AK na sy skouer. “Hei, wat de hel dink jy doen jy hier?” skreeu hy en sak op een knie af. Calla skiet van die heup af met die R5; die kort sarsie gooi Gerrie tussen ’n klomp kombuisstoele in. Soos ’n zombie stap Calla deur die kombuis na die buitedeur waardeur Gerrie ingekom het. “Calla, demmit man!” skreeu Kat en hardloop agter hom aan. “Nie so nie!” Nog twee wagte bars by die deur in en Kat duik Calla plat, sleep hom agter die groot koolstoof in die middel van die groot kombuis in. “Dit gaan niemand fokkol help as jy jou laat vrek skiet nie! Ek voel nes jy, maar nie so nie, demmit!” Die twee aan die ander kant van die stoof trek met hulle AK47’s los en die 7,62 mm-koeëls ruk deur die kastrolle, laat kos op alles neerreën. Wanneer die lawaai ophou, kan die geloei van die helikopter se turbine weer gehoor word. Kat loer by die stoof verby, skiet ’n paar skote om die twee wagte te laat bly waar hulle is. “Wat het gebeur?” vra hy vir Calla. “Hoe spuit jy soveel mense teen hulle wil in?” Calla skiet die R5 se magasyn oor die stoof leeg, vervang dit met die vol een voordat hy antwoord. “Dis ’n simpel plek die. Elke aand as hulle ‘goed gewerk’ het, kry hulle ietsie om hulle beter te laat slaap.” Hy haal sy skouers op. “Hulle het in die langnekbliksem geglo soos in ’n goddelike wese. Wat hy beveel het, het hulle gedoen. As ek so aan die gesingery van vanaand dink, het hy hulle dalk
oortuig dit is die regte ding om te doen.” Die geluid van die helikopter se rotors word harder; dit gaan enige oomblik opstyg. “Hy gaan weer wegkom,” sê Calla, “ons moet hom stop.” Hy ruk die R5 se glystuk terug, kyk vir ’n oomblik na Kat. “Sterkte, ou pel,” sê hy, staan op en loop om die stoof terwyl hy die sneller in kort afgemete sarsies trek. Dan bars alle hel los as die twee aan die anderkant gelyktydig begin skiet. “Nee, is jy simpel?” skreeu Kat, probeer Calla terugpluk, maar hy ruk los, hou net aan om met afgemete treë om die stoof te loop en die sneller te trek. Koeëls uit die AK’s ruk aan sy lyf, maar dis asof hy nie eens daarvan bewus is nie. “Verdomp, Calla!” skreeu Kat en hy rol agter die stoof uit. Hy sien een van die wagte onder ’n staaltafel; sien hoe hy ’n lang magasyn in sy AK47 inknip en die loop na Calla opswaai. Daar is nie tyd om te korrel nie; koeëls vlieg die vertrek vol, ruite skerf en stukke sement word uit die plafon geruk, die glasdeur ontplof. Voordat die wag onder die tafel sy geweer teen sy skouer het, tref Kat se 9 mmkoeëls hom. Kat trek die sneller weer en weer, totdat die AK op die kombuisvloer neerkletter. Iemand gil aan die ander kant van die stoof, en dan is dit stil. ’n Soigheid drup uit die gate in ’n groot kastrol. Kat staan versigtig op en vee van die gemors aan sy broek af. Voor die glasdeur se leë raam lê die ander wag – Calla se werk. Kat loop om die stoof. Die baardman lê in ’n plas bloed wat vinnig besig is om om hom uit te kring. Die ou kakiehemp is flenters geskiet. Net Calla se oë roer. “Kat!” Sy stem is hees en hy gryp Kat se arm vas wanneer die speurder by hom kniel. “Stop … die slangnek … b- … bliksem. Hy gaan wegkom.” Die helikopter se motore raas harder aan die ander kant van die huis. “Hulle gaan … ander plek weer begin … mense se lewens verwoes.” Daar kom ’n rustigheid oor Calla se gesig en dan kantel sy kop. Kat druk die lewelose, starende oë toe. Fok! Hy gryp die R5 en haal die magasyn uit; leeg! Hy hardloop om die stoof; die AK van die een wat hy geskiet het se
magasyn is vol, in ’n sak kry hy nog een. Anderkant die huis begin die helikopter se turbine harder fluit en hy kan hoor hoe die skroef vinniger begin draai. Hy hardloop deur die flenters glasdeur na die huis se oop agterdeur. Hy hardloop in die lang breë gang af tot op die stoep. Die helikopter begin stadig van die oop stuk grond tussen die huis en die veiligheidsheining opstyg. In die flitsende ligte sien Kat vir Papenfus langs die vlieënier, die lang nek gestrek om deur die helikopter se ruit te sien wat onder aangaan. Daar is ’n seëvierende gryns op sy gesig. As hy vir Kat sien, sê hy iets oor sy skouer. Agter Papenfus in die groot helikopter sit van die wagte; een druk sy AK se loop by die oop deur uit en die koeëls ruk langs Kat stukke uit die sandsteenmure en pilare. Kat verloor dit heeltemal. Die tik, die seun met die haelgeweer, die kind sonder ouers en die dooies agter hom in die eetsaal … alles ontplof in hom en verduister alle rede. Die ou wond by sy oor klop soos ’n blootgelegte hart; hy kom regop agter die pilaar en druk die AK se kolf teen sy skouer vas; klein onder die verswelgende warrel van die helikopter. Waar skiet ’n mens die ding? Waar sit sy enjin? Maak dit saak? Fok! Skiet net! Stop die bliksems! Kat druk die geweer se loop teen die klippilaar vas, en wanneer die helikopter se neus begin wegdraai, toets hy die sneller met sy wysvinger. Daar is nie nou tyd vir kort, afgemete sarsies soos hulle op kollege geleer het nie, die spul is besig om weg te kom. Anderkant die heining laat sak die vlieënier die neus, die motore raas skriller, en Kat trek die sneller. Die AK se gestotter klink selfs bo die lawaai van die helikopter uit. Kat skiet die magasyn leeg, vervang dit en skiet weer. Dit lyk nie of hy enige skade aanrig nie, want die helikopter laat sak sy neus en begin spoed optel; skiet weg van die heining af. Dan is daar vonke op die stertrotor. Kat weet daardie klein propellertjie sorg dat die tuig nie saam met die groot skroef tol nie en hy konsentreer sy vuur net daar. Die klein stertrotor spat in ’n sproeireën van vonke uitmekaar. Uit die hoek van sy oog sien Kat die ander wagte van die wagtoring na die helikopter aangehardloop kom. Die tuig begin soos ’n mal insek tol, verloor hoogte en die stert slaan met ’n vonkesproei in die elektriese heining vas. Dan is dit nie meer donker nie – die helikopter ontplof met ’n wit vlammewolk en stukke metaal wat
oor die werf en teen die huis vasgeslinger word. Die skokgolf ruk die huis se voorste ruite uit, ’n stuk metaal tref Kat teen die skouer en hy val deur die oop voordeur terug in die huis in, skuif oor die plankvloer. Hy lê vir ’n ruk met suisende ore, te deurmekaar om te kan begryp wat gebeur het. Die hitte van die brandende huis laat hom regop sukkel en na die deur strompel. Buite word wat van die helikopter oorgebly het verder uitmekaar geruk deur kleiner ontploffings. Van die ander wagte is niks te sien nie. Die veld en die voorkant van die huis is aan die brand, die vlamme word aangeblaas deur die wind wat deur die kloof waai. Die gordyne en dak van die huis vat vlam en in ’n oogwink is die hele plek met sy droë plankvloere en houtplafonne in ligte laaie. Kat hardloop in die gang af. In een van die kamers hoor hy ’n gestamp op die vloer en iemand wat benoud gil. Verblind deur die rook hardloop hy eers verby, draai dan om en skouer die deur oop. Deur die verstikkende rook sien hy die figuur op die vloer langs die bed – ’n meisie, vasgebind, wat met haar voete op die plankvloer hamer. Hy gooi haar oor sy skouer en draai proesend terug na die rook wat soos ’n reuse-watteprop deur die kamerdeur peul.
Twee helikopters stippel oor die westelike rand van die kloof, eers net met ’n ligte geklop, maar toe Kat seker is dit is die taakmag en hy selfs Pine se gesig agter een van die ruite kan uitmaak, is die lawaai kakofonies. Kat sit kaalbolyf op een van die klippe van die rotstuin; om hom lê wrakstukke gesaai. Sy hare en snor is geskroei, sy kop swart van die roet, wit sweetpaadjies loop oor die swart van sy wange. Sy lippe is gebars, plek-plek is hare en vel op sy arms weggeskroei. Hy het die wond aan sy boarm waar die stuk metaal hom getref het met repe van sy T-hemp verbind; ooglopend het dit ’n ruk geduur voordat die bloeding gestop het. ’n Ent van Kat af sit Baby Freislich met haar rug teen ’n klip, haar oë dofstarend in die bloute. Haar rok is vuil en verkreukel en een van die skouerbandjies het afgeskuif. Skuins onder Baby se arm lê ’n seun, witkop, ongeveer vier jaar oud, sy kop op haar skoot. Sy lyfie bewe en ruk, en kort-kort skeur ’n verdrietige snik uit sy keel. Nadat Kat Baby by die rotstuin neergesit het, is hy met die trap in die eetsaal op na die boonste verdieping van die woonkwartier. Hy het ’n nat sakdoek oor sy
mond en neus gedruk en deur die vlamme en rook gestorm, deure oopgegooi, orals gesoek na nog oorlewendes. Vergeefs. Maar hy het die seun gekry, in een van die rondawels tussen die selle en die woonkwartier, verdoof en rustig aan die slaap op ’n bed. Vonke en stukkies roet van die brandende grasdak het hom nie wakker gemaak nie. Nou is daar van die kompleks net die swartgebrande mure oor, verskroeide sinkplate hang van verkoolde balke in die kamers in en hier en daar is ’n skoorsteen wat soos ’n beskuldigende vinger hemelwaarts wys. Rook draai nog uit die ruïnes op. ’n Westewind het die vlamme in die nou kloof afgedryf, asof dié hedendaagse Sodom en Gomorra heeltemal verdelg móés word. Eers op die groen grasvlakte het die brand hom uitgewoed. Die helikopters land op die oop stuk veld tussen die rotstuin en die draad waaroor Kat die vorige nag geklouter het. Die taakmaglede spring uit en neem om die helikopters stelling in. Pine kom deur die gras aangestap, slaan die verwoesting gade, struikel ’n slag oor ’n los klip. By Baby en die seun gaan hy staan, probeer met hulle praat, maar sy staar net nikssiende na hom en druk die rukkende seuntjie stywer teen haar vas. Hy wink die mediese manne van die helikopters af nader. Pine steek twee sigarette met ’n vuurhoutjie aan, hou een na Kat uit. “Ek dog jy gaan net dophou,” sê hy en gaan sit langs Kat op die klip. “Wat het hier gebeur?” Kat trek die Lexington langkool, hou die rook ’n ruk diep in sy longe, haal sy skouers op. “Die hel was los,” mompel hy. Pine beduie in die kloof af. “Wat van die fabriek om die draai?” “Gebrand.” Kat vee met ’n vuil hand oor sy gesig. “Ek was daar ook. Die wind was te sterk in die kloof af.” Mediese ordonnanse is besig om Baby en die seun te stabiliseer en op draagbare te lig. Pine gaan haal ’n bottel water by hulle, trek die prop oop en gee dit vir Kat. “Kom, ou pel, dis verby. Laat ons gaan, die ander kan opruim.”
Erkennings
Ek wil graag my dank en waardering uitspreek teenoor al die lede van die SAPD op Vrede wat maar altyd te gewillig is om raad te gee oor veral die binnewerkinge van die nuwe SAPD-strukture. Aan my swaer prof. A.B. de Villiers van die Noordwes-Universiteit vir sy moeite om my van nader met die Vredefortkoepel se geheimenisse te laat kennis maak. Aan Francois Smith, uitgewersredakteur, vir sy toegewyde werk. Hy het net die vermoë om van ’n gemiddelde manuskrip ’n goeie boek te maak. ’n Spesiale woord van dank aan my uitgewer, Riana Barnard. Aan almal wat met hulle gekarring vir “nog ’n boek” die motivering was vir hierdie poging – ek hoop van harte julle is nie teleurgesteld nie. Ek erken graag die volgende publikasies: Fleminger, David. 2006. Vredefort Dome – A Southbound Pocket Guide to South Africa’s World Heritage Sites. 30° South Publishers, Johannesburg. Reimhold, W.U. en Gibson, R.L. 2005. Meteorite Impact! The Danger from Space and South Africa’s Mega-impact – The Vredefort Structure. Chris van Rensburg Publications, Johannesburg. Venter, Ben. 1971. Salmaklak – ’n legende van die Vaalrivier. Voortrekkerpers.
Die volgende webwerwe was waardevol: http://en.wikipedia.org/wiki/Vredefortcrater www.parys.co.za
www.mieliestronk.com/tikdwelm.html www.scienceinafrica.co.za http://forum.southafrica-com http://nl.wikipedia.org/wiki/Cocaine http://en.wikipedia.org/wiki/Morphine http://af.wikipedia.org/wiki/Metamfetamien www.saps.gov.za
Pine Pienaar, Kat Harmse, die kleurryke Freislichs van Virginia … Piet Steyn se aanhangers ken die meeste van die hoofkarakters in sy jongste polisieroman. En weer is dit ’n verhaal barstens vol aksie en raaisels en … hormone! Propvol dwelms ook, want hierdie keer is dit die landwye toename van tikverslawing wat ons polisiemane hoofbrekens besorg. Die tikepidemie is so ’n onvoorsiene vloedgolf wat van die Wes-Kaap na Gauteng oorgespoel het dat niemand minder nie as kolonel Kat Harmse van die Valke na Potchefstroom gestuur word om aan die NOORDWES-UNIVERSITEIT 'n internasionale kongres oor tikverslawing by te woon. Lesings en referate en toesprake? Beslis nie Kat se gunstelingtydverdryf nie. As dit nie was dat die forensiese patoloog dr. Annie de Villiers (Mooi Annie!) ook die kongres moes bywoon nie, en dat daar intussen in die Vredefortkoepel ’n reeks erg raaiselagtige moorde plaasgevind het nie, sou hy daar en dan almal in hul koepel ingestuur het. Maar toe is Potch nie so sleg nie. Annie bly in die bungalow net langs Kat s’n, hy loop sy ou pel Kris Freislich in die kroeg raak, en sien met naakte bewondering hoe mooi groot Kris se dogter, Baby, geraak het. Wat nie vir Kat so ooglopend soos Baby se kaal midderif is nie, is dat die Vredefortkoepel – ’n wêrelderfenisgebied – die sentrum geword het vir die verspreiding van tik. Die bron daarvan is ’n geheimsinnige plaas in die distrik Vrede, nie ver daarvandaan nie. Dit is hier waar ’n charismatiese godsdiensleier sy onderdane met die Bybel en tik onder sy duim hou. En dit is van hierdie plaas met sy permanent bedwelmde kultusgroep dat ene Charlie Stevens, ’n ou bekende in die Johannesburgse onderwêreld, in die koepel aangeloop kom.
Piet Steyn was al navigator, myner, wiskunde-onderwyser, rugby-afrigter en skoolhoof. Op die vraag hoe hy nou eintlik skrywer geword het, sê hy: "Ek dink dit was die rukkie wat ek in Engeland probeer skoolhou het wat my aan moordstories laat dink het.”
SNOEISKÊR
ISBN: 978-0-624-04647-9 Epub: 978-0-624-05249-4
BOTTELNEK
ISBN: 978-0-624-04780-3 Epub: 978-0-624-05242-5
TOU
ISBN: 978-0-624-04902-9 Epub: 978-0-624-05117-6
Tafelberg ’n druknaam van NB-Uitgewers, Heerengracht 40, Kaapstad, 8001 Posbus 6525, Roggebaai 8001, Suid-Afrika www.nb.co.za
Kopiereg © Piet Steyn 2012
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting.
Omslagontwerp: Laura Foley E-boekontwerp: Trace Digital Services, Kaapstad
Gedrukte uitgawe: Eerste uitgawe 2012 ISBN: 978-0624-05530-3
Epub-uitgawe: 2012 e-ISBN: 978-0-624-05531-0