TROMPIE – Die vegter
Topsy Smith
Omtrent 30 kilometer van Johannesburg af, aan die voet van ’n berg, lê die dorpie Kwaggaberg. Mense op pad Gauteng toe jaag vinnig hier deur en dink dit is ’n mooi plekkie, maar darem té afgeleë. Min weet hulle! As ou inwoners hoor hoe reisigers wat soms in die hotel oornag, smalend praat van Kwaggaberg wat so stil en dood is, skud hulle net kop, kyk veelseggend na mekaar en sê met ’n sug: “Hulle weet nie van Trompie nie...”
Die Trompie-reeks
1. Trompie
2. Trompie die stouterd
3. Trompie die soet seun
4. Trompie die hoërskoolseun
5. Trompie die dromer
6. Trompie die speurder
7. Trompie die kragman
8. Trompie die hartedief
9. Trompie die held
10. Trompie die mooi seun
11. Trompie die leier
12. Trompie die rugbyreus
13. Trompie die vegter
14. Trompie die krieketspeler
15. Trompie die filmster
16. Trompie die sakeman
17. Trompie die sportman
18. Trompie die waaghals
19. Trompie die rebel
20. Trompie die hanswors
21. Trompie die reisiger
22. Trompie die kaptein
23. Trompie die alleenloper
24. Trompie die atleet
Inhoud
Hoofstuk 1 – Hier’s ons weer Hoofstuk 2 – Wat die mense sê Hoofstuk 3 – Die geveg duisend! (1) Hoofstuk 4 – Die geveg duisend! (2) Hoofstuk 5 – Trompie trek vir Rooie ’n streep Hoofstuk 6 – Trompie in die moeilikheid Hoofstuk 7 – Eksamen!
l
Hier’s ons weer
Die dorpie Kwaggaberg is sowat veertig kilometer van Krugersdorp af. Dit is ’n pragtige, boomryke plekkie wat aan die voet van ’n bergreeks lê. Die dorp is die afgelope paar dae nog stiller as gewoonlik, want die kinders is almal besig om vir die eksamen te leer. Dit is byna die einde van die derde kwartaal. In sy kamer is selfs Trompie ook stil. Sy boeke lê voor hom oop. Dit lyk of hy leer. Hy dink diep na – maar nie oor skoolwerk nie! Nee, hy dink aan die maan. Sy hele sproetgesig is op ’n frons soos hy sit en peins. Trompie het die oggend in die skool (dit was in die Engelse stillees-periode) ’n artikel in ’n tydskrif gelees, wat beskryf hoe die eerste mense oor ’n paar jaar op die maan sal gaan vakansie hou. Die artikel was vir Trompie besonder interessant. Dit was die eerste keer in ’n lang tyd dat hy so stil soos ’n muis in ’n Engels-leesperiode was. Hy was nogal jammer toe die onderwyseres die tydskrifte en boeke wat sy vir die kinders uitgedeel het aan die einde van die periode weer inneem. Hy sit nou oor hierdie artikel en peins. Hy weet hy moet eintlik vir die eksamen leer, maar hy sus sy gewete by die gedagte dat hy die artikel mos in die skool gelees het, so dit is so half en half skoolwerk. En buitendien – daar is mos hier in sy aardrykskundeboek ’n tekening van die aarde en ’n klomp mane daar rondom. Trompie wonder lank hoekom daar so baie mane om die aarde is en hoekom party aan die een kant swart is, en ander weer aan die ander kant. Uiteindelik kom hy agter die tekening stel net een maan voor – die maan in die verskillende fases. Dit sal darem lekker wees, dink Trompie nou weer en staar droomverlore
by die venster uit, om daar doer op die maan te gaan vakansie hou! Trompie het ’n geweldige verbeeldingskrag en hy gee nou vrye teuels daaraan. Hy sien hoe die ruimtevaarders hom in sy ruimtepak in die reusevuurpyl vasgespe en hom dan vra of alles in orde is. Hy sien hoe hy dapper knik en op sy tande kners. Trompie kners nou ook onwillekeurig op sy tande soos hy hier op sy stoel in sy kamer sit en leer. Dan voel hy hoe skiet hulle die hemelruim in. Trompie lig homself effens uit sy stoel. Hy kyk af om te sien hoe die aarde al hoe kleiner en kleiner word. Hy kyk sy hond, Boesman, wat heerlik op die vloer lê en slaap, aspris mis. Uiteindelik sien hy hoe hulle op die maan land. Daar is niks. Net koue, kaal, verlate vlaktes. Trompie skree ’n paar keer: “Haai! Is daar nie ander ouens hier nie?” maar al wat hy hoor, is die dowwe eggo van sy eie stem. Die ruimtevaarders skud kop. Trompie weet skielik nie hoe hy hier moet vakansie hou nie. Hy besluit hierdie wêreld is te koud en verlate – en hy is nou nogal honger. Hy tel net ’n paar ysterklippe op om vir sy vriende op aarde te wys hy was regtig op die maan en dan klim hy terug in die ruimtetuig en sê hulle moet hom terug huis toe vat. Nie lank nie of hy is weer op pad terug na die blou planeet toe. Trompie glimlag tevrede. Hy sien hoe hy op die aarde land – die eerste mens wat op die maan gaan vakansie hou het, al was dit net vir tien minute. Almal praat oor hom en sy foto is in koerante regoor die wêreld. Trompie Toerien van Kwaggaberg, Suid-Afrika! Hy sien hoe sy boesemvriende, Rooie, Blikkies en Dawie ook van oor tot oor glimlag. Dit is vir hulle ’n besondere eer om met só ’n beroemde man bevriend te wees. In sy verbeelding sien Trompie hoe hy met ’n oop motor deur groot wêreldstede se hoofstrate ry, terwyl miljoene mense hulde aan hom bring. Almal skree sy naam uit. Soos dit ’n beroemde held betaam, staan hy regop in die gepantserde motor en buig van kant tot kant en waai en glimlag (baie nederig) vir die juigende massas. Trompie staan nou hier in sy kamer van sy stoel af op en maak elegante
buiginkies na die kante toe terwyl hy wuif. Wanneer die motor deur die hoofstraat is, is hy moeg vir die skare se huldebetuigings en gaan sit dankbaar – maar hy sit sy stoel skoon mis! Kadwar! Trompie se sitvlak maak hard met die vloer kennis. “Jissou!” sê die sproetgesig verbaas en Boesman moet vinnig wegspring. Trompie se dagdrome word wreed versteur. Hy kom regop en vryf sy agterstewe. “Dis sommer nonsens om só te sit en droom,” mompel hy by homself. “Ek moet werk. Ek het baie om te doen.” Trompie sit nou weer by die tafel waarop sy skoolboeke oop lê. Hy wonder wat hy eerste sal pak – wiskunde, geskiedenis, aardrykskunde of wat? Hy staar ’n hele paar minute lank met ’n suur gesig na die boeke voor hom. Dan sien hy sy drie potlode is nog stomp. Hy haal sy skerpmaker uit die laai en maak die een potlood ná die ander sorgvuldig skerp. Wanneer al drie pragtige punte het, sit hy hulle netjies voor hom neer. So ja, nou kan ’n ou mos skryf. Nou wonder hy oor sy pen waarvan die agterkant so gekou is. Dit lyk darem nie mooi nie. Trompie gooi die pen in sy snippermandjie en haal ’n nuwe een uit sy laai. Hy sit die pen netjies langs sy drie potlode neer. Trompie kyk ingedagte op sy tafel rond. Hy wonder wat hy nóg kan doen voor hy nou ernstig aan die werk spring en ’n barshou vir die eksamen begin leer. Hy is erg teleurgesteld. Daar is niks verder om te doen nie. Hy moet seker nou maar begin leer. Trompie sug swaar en tel sy geskiedenisboek op. Maar voor hy begin leer, wonder hy of Rooie, Blikkies en Dawie nou ook sit en leer. Miskien is hulle in die kloof, of miskien het hulle gaan kyk of die water in die dam al warm genoeg is om in te swem, of miskien sit hulle daar in die Boksombende se fort en gesels – en dit terwyl hy wat Trompie is, hier sit en leer. Nee, dit sal mos glad nie werk nie. Voor hy begin leer, moet hy eers uitvind of hulle dit ook doen! Skielik onthou Trompie die eksamen begin eers oor tien dae en hy voel sommer baie beter. Dis nog lank. As hy nou al so hard leer, sal hy teen daardie tyd alles vergeet het. Dan sal hy weer van voor af moet begin. Nee wat, dit sal mos nie
werk nie. Trompie se gewete is gesus. Hy glimlag breed, kom haastig op die been, sit sy pet windmakerig skeef op sy ongekamde boskasie en klouter deur die venster. Hy doen dit nie noodwendig net om sy ma te ontduik nie. ’n Lid van die Boksombende maak nooit van ’n deur gebruik om by ’n vertrek in of uit te kom, as daar ’n venster is nie. Trompie stap in die straat af. Hy gaan na Rooie toe, dan sal hulle vir Blikkies en Dawie gaan haal. Saam sal die vier iets kry om te doen. Trompie is moeg. Hy het gans te lank so stil by sy boeke daar in sy kamer gesit. Die sproetgesig se kouse lê soos gewoonlik op sy skoene en sy hemp hang agter by sy broek uit. Sy hande is diep in sy broeksakke en hy loop en skop na blikke, graspolle en klippe. Sy regterskoen se punt is lankal ingeduik van al die skoppery. Boesman, sy hond, hardloop lui ’n paar tree agter Trompie aan. Elke keer as Trompie ’n leë blikkie sien, sê hy: “Vat so!” en skop dit dat dit doer deur die lug trek. Hy verkies blikke bo klippe en graspolle. ’n Blik trek makliker en verder. Terwyl Trompie so loop en skop, dink hy aan die rugbyseisoen wat so pas verby is. Ja-nee, as kaptein van die onder-16-span, het hy weer groot roem vir Hoërskool Kwaggaberg verwerf. Hulle het skoonskip in hul afdeling gemaak en die beker gewen – danksy Trompie se pragtige skepskop in die eindwedstryd teen Hoërskool Saamwerk van Johannesburg. In sy verbeelding sien Trompie weer hoe hy vastrap en die bal netjies tussen die pale deur klits. Dit was die laaste paar sekondes van die wedstryd en die telling was vyf elk toe hy oorskop. ’n Soet glimlag speel om Trompie se mondhoeke soos hy nou weer dink aan hoe almal hom toegejuig het. Sy spanmaats het hom selfs op hul skouers van die veld af gedra. Trompie skop ingedagte na ’n konfytblik. Die ding trek pragtig deur die lug. “Ek is ’n skopper duisend,” sê hy selfvoldaan vir homself. “Dis nou maar wors.”
Hy stap vinnig agter die konfytblik aan en gaan tel dit op. Hy wil nou ’n skepskop probeer – een soos daardie dag met die eindstryd. Trompie kyk rond. Voor hom – hoog in die lug – sien hy die kragdrade wat tussen twee lamppale loop. Hy wonder of hy die blik met ’n skepskop oor die drade sal kan lig. Dit sal darem vir jou ’n skop en ’n half wees, hoor! Trompie druk sy pet stywer en skewer op sy kop. Sy linkerhand hou die blik aan die onderkant vas en sy regterhand rus liggies bo-op. Hy kyk na die drade – en dan draf hy vorentoe. Net toe hy wil lostrek, brul iemand agter hom: “Haai!” Trompie skrik hom boeglam en steek in sy spore vas. Hy ken daardie stem: daar is net een persoon op Kwaggaberg wat só kan bulder, en dit is die polisiesersant. Omdat hy nie weet wat om te doen of sê nie, speel Trompie liggies met die konfytblik in sy hande. Dan besluit hy dit sal dalk beter wees om die ding maar te laat val. Hy maak so en die blik val op ’n groterige klip. Dit maak ’n harde tingeling-geluid, rol ’n entjie weg en kom dan tot stilstand. Trompie draai om. Hy lig sy pet en sê beleefd: “Middag, Oom.” Die sersant sit op sy fiets en gluur die seun kwaai aan. Hy is ’n groot, gesette man, en Trompie en sy vriende is baie bang vir hom. Wanneer hierdie geregsdienaar hulle sien, wys hy altyd kwaai vir hulle vinger – al doen hulle nie eers iets nie. “Wat doen jy?” vra die man in ’n bars stem. “Niks, Oom.” Trompie kyk met ’n onskuldige gesig na hom. “Ek het daai ou blikkie sommer so ’n bietjie geloop en skop, Oom weet.” Trompie wys na die blik wat nou eenkant lê. “Bog,” brom die plaaslike hoof van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Hy kyk kwaai na Trompie. “Jy wou die ding daar oor die kragdrade geskop het.” Trompie erken of ontken dit nie. Hy staar net stip voor hom. Hy sien die groot, swart stewels. Die sersant se een groot voet rus op die pedaal. Sy uniform se broek is effens opgetrek soos hy op die fiets sit, en Trompie kyk na die spierwit been wat tussen die swart sokkie en die broek uitsteek.
“Ek praat met jou!” “Ja, Oom,” sê Trompie en kyk op. “Ek… ek wou maar net probeer om die blikkie oor die drade te piets – met ’n skepskop. Oom weet, soos ek gedoen het in daai eindwedstryd teen Saamwerk.” Die sersant wil nie nou weer van daardie skop hoor nie. Kwaggaberg se inwoners praat tot vervelens toe daarvan. Hy wys Trompie moet stilbly. “Wat dink jy sou gebeur het as die ding daar tussen die kragdrade vasgesit het?” Trompie kyk na die blik en dan weer na die drade. Hy skud sy kop. Nee, hy weet nie wat sou gebeur het nie. “Wel, laat ek jou sê.” Die sersant se dik, waarskuwende vinger is nou feitlik onder Trompie se neus. “Jy sou feitlik die hele Kwaggaberg opgeblaas het! Dit sou net een blou, verterende vlam gewees het!” Trompie se mond hang effens oop. Dit klink nogal indrukwekkend – én skrikwekkend! “Jissie, Oom,” sê Trompie verbaas. Die sersant voel hy het effens oordryf, maar dit is partykeer nodig om tot ’n stouterd soos Trompie deur te dring. “Jy moet oppas,” sê hy nou vir die seun. “Ek hou jou en daai vriende van jou dop. Loop nou soos ’n ordentlike mens en moenie skop na alles wat jy sien nie.” Die sersant trap sy fiets se pedaal en ry weg. “Tot siens, Oom!” skree Trompie agterna en glimlag. “Tot siens,” brom die sersant. Trompie draai om en stap met sy hande diep in sy broeksakke weer aan na Rooie toe. Toe hy by die ingeduikte konfytblik kom, gaan staan hy en kyk verlangend daarna. Dan kyk hy weer na die kragdrade. Hy wonder of hy dit sou reggekry het
om die blikkie daaroor te klits. Maar hy kan nie nou meer probeer nie. Dis te gevaarlik. Hy wil mos nie hê die hele Kwaggaberg moet deur blou vlamme verteer word nie. Hy gee die blik darem net vir oulaas ’n skoppie met die kant van sy voet. Dan stap Trompie vinnig verder. Naby Rooie se huis fluit hy hard. Dit is ’n hoë noot afgewissel met ’n lae een. Dit is die Boksombende se sein. Trompie draai sy kop effens sodat hy goed kan hoor. Boesman staan met gespitste ore en luister. Dan hoor hulle iemand op dieselfde manier terugfluit. Dit kom skerp en duidelik – ’n hoë noot afgewissel met ’n lae een. Dit is Rooie. Hy is in sy kamer. Trompie en Boesman stap by die hek in en om die huis na die buitekamer in die agterplaas. Die seun klouter deur die venster en die hond spring deur. “Haai,” sê Trompie. “Haai,” groet Rooie. Rooie sit op die bed en voor hom is ’n tafel waarop sy skoolboeke lê. Hy is bly om Trompie te sien. Hierdie leerdery vir die eksamen verveel hom. Trompie swaai ’n stoel om en sit wydsbeen daarop. Hy leun met sy arms, skouers en kop gemaklik op die rugleuning. Hy het eendag in ’n fliek gesien die cowboys sit almal só. Dit het ’n diep indruk op hom gemaak. Van toe af sit hy ook altyd só op ’n stoel, behalwe wanneer sy ma of pa by is. “Hoe vorder jy?” vra Trompie en wys na die oop boeke. “Sleg.” Rooie sug swaar. “Ek kry die goed nie in my kop nie.” “Ek het nie eens probeer nie,” sê Trompie rustig. Rooie staar ingedagte na sy tone. Hy probeer hulle roer sonder dat sy groottoon beweeg. Dit is nogal moeilik. Uiteindelik sê hy: “Hoekom het jy nie probeer leer
nie? Jy weet mos ons skryf oor tien dae eksamen.” “Dis juis die ding,” sê Trompie terwyl hy vlugtig in die groot spieël teen die kas loer om te sien hoe hy lyk wanneer hy so wydsbeen agterstevoor op die stoel sit. Hy is in sy skik. Hy lyk nes sy cowboy-held in daardie fliek. Rooie dink ernstig oor Trompie se opmerking na. Dan vra hy: “Hoe bedoel jy?” “Hoe bedoel ek waarmee?” “Met ‘dis die ding’.” “Wel, dit ís mos die ding.” “Wát is die ding?” Rooie kyk vies na Trompie. Hy sê dit nie, maar hy dink duidelik sy vriend hou hom net weer snaaks. “Die ding is juis,” sê Trompie en sug swaar om te wys hoe moeilik dit is om so iets vir ’n swaap te verduidelik, “die eksamen is eers oor tien dae. Dis mos nog lank. As ’n mens nóú leer, vergeet jy weer alles. ’n Ou, ’n slim ou soos ek natuurlik,” Trompie stoot sy bors effens uit, “begin eers so drie dae voor die tyd leer. Dan kan ’n ou die goed mos nie vergeet nie.” Hoe meer Rooie hieroor nadink, hoe meer hou hy van sy vriend se idee. “Dis wyse woorde daai, Trompie,” sê hy uiteindelik. “Natuurlik is dit! Net die dom ouens begin nou al leer.” Rooie knik ingenome sy kop. Hy maak sy boeke met ’n breë glimlag toe en stoot hulle eenkant. Hy voel nou baie beter. Hy sal so ’n dag of drie voor die eksamen begin leer. “So wat doen ons nou?” vra Rooie. “Kom ons gaan vertel vir Blikkies en Dawie hoe belaglik dit is om nou al te begin leer en dan loop ons kloof toe.” “Jissie, Trompie,” sê Rooie, “jy het nogal ’n slim kop aan jou.”
Die twee vriende pomp mekaar laggend in die ribbes, klouter deur die venster en verkas na Blikkies se huis toe. Trompie dink daaraan dat dit miskien nie so maklik sal wees om Blikkies en Dawie – veral Dawie – te oorreed om hul boeke opsy te skuif en in die kloof te gaan speel nie. Die opgeruimde twee seuns en die blaffende hond kom by Blikkies se huis aan. Sy ma sê hy is na Dawie toe om daar te leer. Trompie is in sy noppies. Nou hoef hy sy teorie dat dit belaglik is om tien dae voor ’n eksamen al te begin leer, mos net een keer te verduidelik. Dit gaan nou sommer twee vlieë met een klap wees. By Dawie se plek fluit Trompie en Rooie die Boksombende se sein. Dawie en Blikkies fluit van die kant van die huis af terug. Hulle sit in die tuinhuisie aan die onderkant van die grasperk op gemakstoele by ’n tafeltjie en leer. “Haai,” groet Trompie en Rooie opgeruimd. “Wat’s dit met julle?” vra Dawie. “Hoekom lyk julle so vrolik?” wil Blikkies weet en versit ’n fyngekoude grashalmpie behendig van die een kies na die ander. “Ons gaan kloof toe,” sê Trompie en kom sit wydsbeen oor ’n stoel met die rugkant voor hom. “Kom julle saam?” Rooie maak hom op die grasperk tuis en begin sy tone wikkel. Dawie en Blikkies kyk verbaas na Trompie en Rooie. Dan sê Dawie smalend: “Dié twee weet seker nie ons skryf oor tien dae eksamen nie,” en skud sy kop asof hy hulle baie jammer kry. “Of hulle wéét van die eksamen en probeer nou net snaaks wees,” sê Blikkies vies en spoeg die gekoude grashalmpie met ’n boog deur die lug. Dan staan hy op en gaan pluk ’n vars grashalmpie uit ’n graspol. Trompie sit en glimlag. Rooie wikkel sy tone – hy probeer tevergeefs om almal te roer sonder dat sy groottoon ook beweeg.
Blikkies kou smaaklik aan sy nuwe grashalmpie terwyl hy hom weer lui op die gemakstoel uitstrek. Dit lyk of hy al moeg is vir die leerdery. Dawie sit met ’n frons op sy voorkop en lees sorgvuldig deur ’n eksperiment in sy handboek vir natuurwetenskap. Hy steur hom nie aan die ander nie. Hy leer hard. Hier is die beroemde (of is dit miskien berugte?) lede van die Kwaggaberg se Boksombende nou bymekaar. Trompie is hul leier, of Grootkaptein soos hy homself graag noem. Hy is al vyftien (Blikkies en Rooie ook) en hulle is almal leerders aan die beroemde Hoërskool Kwaggaberg. Rooie is ’n sterk, frisgeboude knaap. Al is sy pa die dorp se skoenmaker, kan Rooie nie skoene aan sy voete verdra nie. Hy moet op hoërskool skoene dra, maar wanneer hy smiddae by die huis kom, is die goed vinnig van sy voete af. Hierdie vier seuns is al van hul laerskooldae, toe hulle saam in graad vier was, vriende. Trompie en Rooie het een keer lelik vasgesit en mekaar getakel. Trompie het die geveg gewen en almal het Rooie se blouoog daarna vir dae lank bewonder. Van toe af is Rooie een van Trompie se vurigste ondersteuners. Die lui, kouende Blikkies is langer as die ander en ook meer besadig. Hy is die een wat altyd eers (al is dit maar net effentjies) beswaar maak teen Trompie se voorstelle. Blikkies se kniekoppe klap altyd wanneer hy in die klas opstaan. Die kinders hou daarvan, en neul gedurig by hom om op te staan. Blikkies se kakebene beweeg altyd. Dit is maklik om te weet hoe sy finansiële sake staan. As hy geld het, kou hy kougom – as hy platsak is, is dit ’n grashalmpie. Die skrander Dawie is die laaste lid van die Boksombende. Hy is twee jaar jonger as die ander drie, maar in dieselfde klas as hulle. Dawie is tengerig gebou en het helderbruin oë. Hy volg Trompie blindelings nadat sy vriend sy lewe gered het, toe hy amper in die kloof se dam verdrink het. Hier sit die vier vriende nou in die tuinhuisie by Dawie se huis. Trompie sit sommer net. Rooie wikkel sy tone. Blikkies se kakebene beweeg ritmies op en af. Hy dink dis nogal ’n goeie idee van Trompie dat hulle kloof toe moet gaan. Die leerdery begin hom nou verveel. Dawie leer nog steeds. Hy dink hy begin nou hierdie moeilike eksperiment verstaan.
Boesman lê in die son en slaap. Sy stert beweeg net elke nou en dan lui wanneer daar ’n vlieg op hom kom sit. Dawie maak sy natuurwetenskapboek toe by die plek waar die eksperiment is, maar hou een vinger by die bladsy. Hy prewel dan met toe oë iets van “konstant” en “volume” en “volume wat die gas inneem”. “So ja,” sê hy skielik en stoot die boek weg. “Nou ken ek Boyle se Wet.” Trompie en Rooie gaap hom oopmond aan. Dan mompel Rooie: “Jy ken watse ding?” “Boyle se Wet.” Trompie en Rooie kyk na mekaar en dan vra Trompie die vraag wat in albei se oë te lees is: “En watse ding is dit?” “Dit verduidelik en bewys dat die druk waaronder ’n hoeveelheid gas verkeer, altyd omgekeerd eweredig is aan die volume wat die gas inneem.” Trompie en Rooie lyk nog meer dronkgeslaan. “Jissie!” sê Trompie. “Jy praat nou Grieks.” “Moet ons daai goed vir die eksamen ken?” wil Rooie baie bekommerd weet. “Natuurlik moet ons dit ken. Ek kan julle wed Ou Bles gaan ’n vraag oor Boyle se Wet vra.” Dawie glimlag selfvoldaan. Hy ken hierdie ingewikkelde storie nou, maar Trompie en Rooie het duidelik nog nooit eers daarvan gehoor nie. Blikkies lyk ook nie te gelukkig oor Boyle se Wet nie. Hy het dit onder die knie probeer kry, maar tevergeefs. “Ek verstaan die ding nog nie mooi nie,” sê Blikkies fronsend. “Dis omdat jy te vroeg begin leer het,” sê Trompie. “Hoe bedoel jy?”
Dawie luister nou ook. Trompie verduidelik sy teorie dat ’n mens te vroeg kan begin leer. As jy dít doen, is jy volgens hom verlore, want jy vergeet alles wat jy geleer het. ’n Mens moet eers so drie dae voor die eksamen hard begin leer. “Dis wat ek gaan doen,” sê Trompie om sy argument af te sluit. “Dis wat ek ook gaan doen,” sê Rooie en glimlag selfvoldaan. Dit lyk amper of hy dit reggekry het om sy tone te wikkel sonder om die groottoon ook te beweeg. Dawie glimlag net. Blikkies se kakebene beweeg ritmies op en af en hy dink ernstig. Trompie se teorie klink vir hom nogal aanvaarbaar. Hy hou van die idee om vir minstens nog ’n week glad nie eens aan die eksamen te dink nie. “Ek dink jy’s reg, Trompie,” sê Blikkies en versit sy grashalmpie behendig van die een kies na die ander. “As ’n mens te vroeg begin, kan jy jou maklik dóód leer.” “Dis nou maar wors,” sê Trompie sedig. Hy probeer lyk soos ’n groot geleerde wat ná diepe bepeinsing ’n groot waarheid uitgespreek het. “So dan gaan jy saam met ons kloof toe?” vra Rooie. “Natuurlik,” sê Blikkies en stoot sy boeke weg. Trompie en Rooie klop hom op die rug om hom geluk te wens met sy wyse besluit. Dawie sit met toe oë. Hy is weer besig om Boyle se Wet by homself te prewel. “Is die ou mal?” mompel Rooie. “Haai!” sê Trompie skielik hard. “Ja?” Dawie maak sy oë oop. “Kom jy saam kloof toe?” Dawie stem nie saam met Trompie se teorie nie. Hy gaan van nou af elke dag hard leer, maar hy voel darem hy het vandag al genoeg gedoen.
Trompie, Rooie en Blikkies gluur woes na hul vriend. Dit lyk of hulle regsit om hom te karnuffel as hy te lafhartig is om saam met hulle te gaan. “Wat is jou antwoord?” vra Trompie bars. Hy wikkel sy sproetneus op en af om Dawie goed te laat verstaan hy wat Trompie is, is nou moeilik. “Ja.” “Ja – wat?” Hierdie onverwagte antwoord het Trompie, Rooie en Blikkies skoon van stryk af. “Ja, ek gaan saam kloof toe.” “O, oukei dan,” mompel Trompie. Rooie en Blikkies knik goedkeurend kop. Rooie brom iets van dat as Dawie nee gesê het, hy vandag iets sou gesien het wat hy nie graag sou wou sien nie. Die vier vriende is vinnig by die tuin uit en stap kloof toe. Hulle gaan uitvind of die water in die kloof se dam al warm genoeg om te begin swem. Trompie, Rooie en Blikkies stap voor. Hulle gesels en skerts met mekaar. Dawie is soos gewoonlik ’n paar tree agter. Hy hou homself besig deur klippe te gooi wat Boesman dan moet gaan haal. Wanneer hy moeg hiervoor is, dink Dawie daaraan dat hy vir die ander moet vertel wat hy vandag by die skool gehoor het. Dit is iets wat Trompie raak – en daarom ook indirek die ander drie lede van die Boksombende. Trompie, Rooie en Blikkies kyk om en loop stadiger. Dawie hardloop tot by hulle. “Weet julle wat?” vra hy toe hy by hulle kom. “Nee,” sê die drie tegelyk. “Hoe moet ons weet?” vra Trompie en skud sy kop asof hy Dawie jammer kry dat hy so dom is. “Ek het iets wat ek julle wil vertel. Dis iets oor jou, Trompie.”
Trompie se oë is op skrefies. “So?” sê hy en sy stem klink agterdogtig. “Wat van my?” Dawie is nie lus om sy nuus hier in die veld uit te blaker nie. Dit is ’n ernstige affêre. Hulle moet sit en die saak ordentlik bespreek. “Kom ons gaan fort toe,” sê Dawie en begin sommer aanstap. Die Boksombende se fort is ’n vervalle ou waenhuis in die veld, ’n entjie buite Kwaggaberg. Toe die seuns nog op laerskool was, het hulle elke dag soontoe gegaan en baie gelukkige en sorgelose ure daar deurgebring. Vandat hulle op hoërskool is, kom hulle nie meer so baie by die fort nie – net wanneer hulle voel hulle moet ’n amptelike vergadering hou. Trompie is baie gesteld daarop dat alles by ’n amptelike vergadering “stiptelik en streng volgens die korrekte prosedure moet geskied”. Dit is ’n frase wat hy by sy pa gehoor het. Hy hou baie daarvan en gebruik dit nou weer. “Alles moet stiptelik en volgens die korrekte prosedure geskied,” sê hy. “Ons gaan ’n amptelike vergadering hou. Dan kan Dawie vertel wat hy van my gehoor het.” Trompie loop en wonder wat dit kan wees wat kastig so ernstig is. “Waaroor wil jy praat?” vra Rooie vir Dawie. “Wag tot ons in die fort is.” “En amptelik vergadering hou,” sê Trompie streng. “Dis reg,” sê Dawie, maar dan kyk hy na Trompie en vra: “Weet jy wat sê die mense van jou?” Trompie skud effens uit die veld geslaan kop. Nee, hy weet nie wat hulle van hom sê nie, en hy sal baie graag wil weet. “Geduld,” sê Dawie net. “Ek sal jou in die fort vertel.” Die seuns stap nou vinniger. Hulle is nuuskierig om uit te vind wat die mense
van Trompie sê. Trompie voel ongemaklik. Hy wonder of dit iets slegs is. Hy wikkel sy neus vies op en af. Sy vuiste is gebal.
2
Wat die mense sê
In die vervalle ou waenhuis gaan sit die vier seuns op houtkissies. Trompie staar ingedagte voor hom uit. Dit is ’n amptelike vergadering van die Boksombende en hy hoop die ander drie besef hoe plegtig hierdie geleentheid is. Trompie glo dit beïndruk sy vriende as hy so ingedagte voor hom sit en en uitstaar. Dit is egter glad nie die geval nie. Dawie probeer om Boesman wat naby sy kissie neergeplof, het met sy skoen te kielie. Rooie sit gemaklik en probeer weer sy tone wikkel. Blikkies sit-lê op sy kissie. Net sy sitvlak is op die kissie – sy bene is lank voor hom uitgestrek, sy voete rus op die grond terwyl sy skouers, nek en kop teen die muur leun. Sy oë is toe en sy bewegende kake is al wat wys hy slaap nie vas nie. Trompie voel hy het nou lank genoeg stil gesit en hulle tyd gegee om diep onder die indruk van die plegtigheid van hierdie byeenkoms te kom. Hy gaan die amptelike vergadering nou amptelik open. Hy staan op. “Manne van die Boksombende,” sê hy sedig. Dawie kielie Boesman nie meer nie. Blikkies hou aan kou, maar sit effens meer regop. Hy maak sy een oog oop en loer na Trompie. Rooie wikkel nie meer sy tone nie. Trompie moet altyd eers tel of al die Boksombende se lede teenwoordig is. Dit is natuurlik belaglik, want daar is maar net vier van hulle en hy kan mos sien al vier is daar, maar hy doen dit al jare lank by hul vergaderings en kan nie sien hoekom hy nou daarmee moet ophou nie. Nee, hy moet hulle tel. Hy beduie met ’n vuil wysvinger na Blikkies, dan na Rooie, Dawie en laaste na homself. So ja, nou is hy tevrede. Al vier bendelede is teenwoordig.
“Ons is voltallig,” sê hy plegtig. “Jissie, Trompie, jy kon dit mos gesien het sonder om ons te tel,” mompel Dawie. “Ek het nie jou mening gevra nie!” snou Trompie hom toe. “En wat het jy my genoem?” “Skuus, Kaptein,” mompel Dawie. Trompie is altyd gesteld daarop dat hulle hom op ’n amptelike vergadering as Kaptein moet aanspreek. Hy het daardie eer en titel jare gelede verdien toe hulle nog maar in graad vier was en die Boksombende gestig het deur te bewys hy hardloop die vinnigste, swem die beste, deps die meeste vrugte uit oom Stavrinos se vrugteboord, baklei die beste en spoeg die verste. “Ons vergader vanmiddag hier,” begin Trompie dramaties, “hier onder die blou hemel, omdat een van ons glo iets op die hart het.” Dawie dink dit is gepas om sy hand nou op sy hart te sit en hy doen dit. Hy staar strak voor hom uit. “Probeer jy miskien snaaks wees?” vra Trompie kwaai toe hy die gebaar sien. Nee, skud Dawie sy kop. Hy probeer nie snaaks wees nie. Hy lyk verbaas dat Trompie so iets kan vra. Hy het sy hand mos maar net op sy hart gesit. Dis al. “Die een wat...” begin Trompie. “Iets op die hart het,” maak Rooie sy sin klaar. Trompie kyk agterdogtig na Rooie. Hy wonder of die ou miskien met hom – die Boksombende se Grootkaptein – probeer gekskeer, maar Rooie kyk met ’n onskuldige gesig na Trompie. “Ja, die een wat iets op die hart het,” sê Trompie kwaai. “En ek soek nie nóg tussenwerpsels nie!” “Watse goed?” vra Blikkies met ’n grinnik.
Trompie gluur woes na sy vriend met die kakebene wat so ritmies op en af beweeg. Dan probeer Trompie weer. “Soos ek sê, ons vergader hier...” “Onder die blou hemel,” maak Rooie weer sy sin klaar. “Ja, onder die blou hemel, en sal julle nou stilbly!” “Ek het nie ’n woord gesê nie, Kaptein,” kla Dawie gegrief. Trompie besluit om liewer al die opmerkings te ignoreer. Hy wil nou uitvind wat die mense van hom sê. “Ons vergader vandag hier,” sê hy en voor Rooie of een van die ander dit kan sê, voeg hy vinnig by, “onder die blou hemel. Ons is bymekaar om te hoor wat een van ons lede op die hart het. Hy beweer dis iets wat die mense van my sê. Die vergadering is nou oop en die lid mag sê wat die mense van my sê. Staan op, Dawie, en sê jou sê.” Trompie gaan sit. Dawie is nie lus vir hierdie lawwe lollery met ’n amptelike vergadering nie. Hy wil nie opstaan nie. Hy wil sommer net sit en vertel wat hy gehoor het. “Ek gaan nie staan nie,” sê hy saaklik. Trompie kyk hom vies aan. Dawie ruk hom op en sê: “Noudat ek oor die hele ding dink, weet ek nie eers of ek moet sê wat ek gehoor het nie...” “Wat jy van Trompie gehoor het?” vra Rooie. “Ja.” “Wat die mense van hom sê?” wil Blikkies weet. “Ja.” Trompie vergeet skoon om Dawie as Grootkaptein te beveel om op te staan. Hy vergeet heeltemal van die kastige amptelike vergadering. Hy wonder wat Dawie gehoor het, en hoekom hy nou skielik nie weet of hy moet sê wat dit is nie.
Rooie en Blikkies wonder ook. Die drie kyk aandagtig na Dawie. Hy staar fronsend voor hom uit, maar loer darem so af en toe vlugtig na hul kant toe om te sien watter indruk sy kastige diep dinkery op hulle maak. “Hoekom wil jy nie sê wat jy van my gehoor het nie?” vra Trompie. “Want ek’s ’n bietjie bang.” “Hoekom is jy bang?” Blikkies is nou wawyd wakker en loer nie meer net deur een oog vir sy vriende nie. Hy sit kiertsregop op die kissie. Trompie en Rooie stoot hul kissies effens nader aan Dawie. “Sê nou vir ons hoekom is jy bang,” dring Trompie aan. “Ek is bang omdat die ou so groot en sterk is – en oor hy so goed kan baklei.” “Watter ou?” vra Trompie. “Die ou wat iets van jou gesê het.” “Is hy een van die mense?” wil Rooie nou weet. “Een van die mense wat dinge van my sê?” vra Trompie en sy vuiste is gebal. “Ja.” Dawie geniet elke oomblik hiervan. Hy is nou behoorlik in die kollig. Trompie, Rooie en Blikkies skuif nog nader aan hom. Trompie is moeg om alles so uit Dawie te moet trek. “Vertel ons nou reguit wat die ou van my gesê het en kry klaar!” sê hy en kyk kwaai na Dawie. “En ook wat die ander mense sê,” voeg Rooie by. “Maar ek sê julle mos – ek’s bang.” “Vir wat? Ek sal jou mos beskerm.” Trompie stoot sy bors effens uit. Dawie kyk peinsend na Trompie. Hy wonder of die uiteinde van hierdie hele
affêre nie nog sal wees dat Trompie en die ou mekaar eendag met die vuiste gaan takel nie. As dit gebeur, sal dit ’n goeie ding wees, want die ou het nodig dat iemand hom op sy plek sit. Dawie besluit om alles te vertel. Hy maak eers effens keel skoon. Sy drie vriende hou hom aandagtig dop. “Julle ken mos vir Jorrie Jordaan, nè?” begin hy. Die seuns knik. Hulle ken hom. Trompie se hart word koud. Hy bal sy vuiste nog stywer. Jorrie is ’n boelie wat ’n paar weke gelede na hul skool toe gekom het. Hy is hier in Kwaggaberg se koshuis, en kom glo van die Vrystaat af. Jorrie is groot en fris. Hy en Trompie het sommer van die eerste dag af al niks van mekaar gehou nie. Hulle vermy mekaar. Dit is asof hulle aanvoel dat hulle uit mekaar se pad moet bly, anders gaan hulle bots. Dawie vertel nou opgewonde dat Jorrie ’n storie versprei waaroor al die kinders lag en praat. Hy wat Dawie is, voel gekrenk daaroor en Rooie en Blikkies sal ook nie daarvan hou nie, want Trompie is mos hul vriend en iets wat hom raak, raak hulle ook. “Waaroor lag en praat almal so?” vra Trompie. “Oor wat Jorrie vir hulle vertel.” “En wat is dit?” wil Trompie weet. “Wat vertel hy?” brom Rooie. “Sê jou sê en kom uit met die ding,” sê Blikkies en spoeg die grashalmpie waaraan hy gekou het met ’n boog uit. “Wat het Jorrie Jordaan van my gesê?” dring Trompie aan om te weet. “Hy’t gesê...” Dawie verstaan die kuns om ’n storie te vertel en so lank moontlik uit te rek. Hy bly net op die regte oomblik stil. “Ja? Wat het hy gesê?!”
Dawie besluit die tyd het nou aangebreek om met die vreeslike ding uit te kom. “Hy’t gesê... Trompie het ’n meisie!” Dis uit. Trompie se eerste reaksie is een van verligting. Dit is darem nie so erg soos wat hy verwag het nie. Dis nie genoeg rede om teen Jorrie te baklei nie. Trompie wil dit nie graag doen nie, want daai ou is baie groot en sterk. “Aag,” sê Trompie en gee ’n verleë laggie, “hy’s sommer simpel. Dis mos nie waar nie.” “Dís wat dit so erg maak,” sê Dawie verontwaardig. “Jorrie vertel vir almal jy is so verlief soos ’n afkop hoender, en jy loop deesdae gedurig met ’n skaapgesig rond.” “En wie’s die meisie op wie Trompie so verlie-... verdinges is?” Rooie weier om die woord “verlief” oor sy lippe te laat kom. “Ja, dis wat ek ook wil weet,” sê Trompie. “Wie is kastig my meisie?” Nou speel Dawie sy troefkaart. Hy sê in ’n swaar, hol stem: “Orgina Gous.” Trompie kry eerste beheer oor sy stembande terug. “Wá-át?” “Ja, sien jy nou hoekom die affêre so ernstig is? Jorrie is besig om jou wat Trompie is vir die grootste gek op aarde uit te maak.” Die Boksombende sit en dink aan Orgina Gous. Sy is nie net die lelikste meisie in hul klas nie, maar ook die lelikste in die hele skool. Hulle vier het lankal so besluit. Die seuns in hul skool hou niks van Orgina nie. Nie omdat sy nie mooi of amper mooi genoem kan word nie, maar omdat sy ’n klikbek is en so by al die onderwysers probeer kruip. En om te dink hierdie meisie se naam word nou aan Trompie s’n gekoppel! Hy is sommer lelik vies. “Dis belaglik!”
“Natuurlik is dit!” stem Dawie saam. “Jy moet iets aan die saak doen. Onthou, dit raak ons ook. Ons is jou vriende.” “Ja, en ons wil nie hê ons vriend moet ’n meisie hê nie,” ondersteun Rooie vir Dawie. “Veral nie ’n meisie soos Orgina nie,” gooi Blikkies sy stuiwer in die armbeurs. Trompie voel hy moet iets doen, maar hy is half skrikkerig. Hy het gehoor Jorrie Jordaan baklei baie goed. In die Vrystaatse dorpie waar hy vandaan kom, het hy feitlik elke dag met ouens baie groter en ouer as hy baklei. En hy het glo altyd gewen – sommer maklik gewen. Altans, dis wat Jorrie vir die ouens in die koshuis vertel. Hy het blykbaar later glad nie meer baklei nie, want daar was niemand in die skool oor wat dit wou waag om hom aan te durf nie – selfs die groot matriekseuns het vir hom geskrik. Toe Trompie dié stories aan die begin van die kwartaal hoor, het hy sommer reguit vir sy drie vriende gesê hy glo dit nie. Maar Trompie is nou nogtans bekommerd, want ’n mens weet nooit nie. Al is net die helfte van Jorrie se stories waar, is hy nog steeds ’n gevaarlike kalant. Trompie sug. Die ou wêreld is darem maar moeilik. Dawie, Blikkies en Rooie hou hul Grootkaptein aandagtig dop. Hulle voel effens teleurgesteld. Dis mos ’n vreeslike belediging om te sê ’n ou het ’n meisie – en dan boonop nog ’n meisie soos Orgina Gous. Hulle het gedink Trompie sal sommer dadelik opvlieg en sê: “Kom, ouens, ek gaan daai Jorrie op sy plek sit!” Hoekom doen hy dit nie? “Besef jy wat die mense sê?” vra Blikkies stadig en duidelik vir ingeval dit nog nie tot Trompie deurgedring het nie. “Orgina is jou meisie!” “Ja, man,” snou Trompie hom toe. “Ek is mos nie doof of dom nie.” “So wat gaan jy daaraan doen?” vra Dawie reguit. “Aag wat,” sê Trompie en gee ’n verleë laggie, “Jorrie het dit seker nie ernstig bedoel nie. Hy’t sommer ’n grap gemaak.” “’n Grap?” Dawie se skril stem is nog skriller. “Hy vertel hierdie nonsens vir die
hele skool, en almal praat agter jou rug en lag vir jou! Noem jy dit ’n grap?” Rooie en Blikkies sit reg om vir Trompie te sê hy is ’n bangbroek as hy dit nog steeds ’n grap noem. “Ek sal hieroor moet nadink,” sê Trompie hooghartig. “Ek sal julle later meedeel wat ek besluit het om te doen.” Die Grootkaptein se drie manskappe is ontevrede. Dit lyk mos of hy bang is vir die boelie van die Vrystaat. “Maar jy gaan definitief iets doen?” vra Blikkies nou. “Ja, ek gaan. Maar ek sal nog besluit wát,” sê Trompie sag. “Ek gaan Jorrie dophou en kyk of hy met my sukkel.” “Hy het mos klaar met jou gesukkel,” sê Dawie. “En hy’t ’n ander keer ook al met jou skoor gesoek,” sê Rooie. “Onthou jy?” Trompie en die ander dink nou aan hoe Jorrie al met hom gesukkel het. Jorrie het die eerste paar weke uit Trompie se pad gebly, maar toe hy sien Trompie vermy hom, het hy al meer van ’n kaartmannetjie geword, want hy het geglo Trompie is bang vir hom. Eendag in die sangles het iemand uit ’n ry agter Trompie s’n hom met ’n lemoenskil agter die oor gepiets. Trompie het hard “Eina!” geskree en vinnig omgeswaai. Die ouens agter hom het met onskuldige gesigte na hom gekyk – almal behalwe Jorrie. Daar was ’n uitdagende grynslag op sy gesig, amper of hy wou sê: “Ek het dit gedoen, en wat daarvan?” Trompie het besluit om die voorval te ignoreer. ’n Rukkie later is Trompie se fietsbande eendag afgeblaas. Twee graadagts het fluisterend vir hom vertel hulle het Jorrie daar by sy fiets gesien. Trompie het besluit hulle kon miskien ’n fout gemaak het, en nie vir Jorrie oor sy twee pap bande gekonfronteer nie. Toe word Trompie eendag op pad klas toe in die gang gepootjie. Hy het gestruikel, maar betyds omgeswaai om te sien wie dit gedoen het. Hy het in
Jorrie se gesig vasgekyk. “Amper stof gevreet, nè?” het Jorrie smalend gevra. Trompie het vinnig besluit dit was maar net ’n grap en verleë geglimlag en aangestap. Hy was bly sy drie vriende was nie daar in die ry om te sien hoe hy gepootjie is nie. Hulle sou miskien gedink het hy is bang vir Jorrie. Maar hier is die volgende ding nou: Jorrie vertel vir almal Orgina Gous is Trompie se meisie. Die Boksombende se Grootkaptein bal sy vuiste. Hy moet iets aan die saak doen, maar wat? Jorrie is vervlaks groot en sterk, hoor! “Ek sal nog sien wat ek sal sien,” sê Trompie. Hy probeer geheimsinnig lyk, asof hy groot planne het, planne wat hy nie nou hier wil uitblaker nie. En met hierdie stelling moet Dawie, Rooie en Blikkies tevrede wees. Noudat hulle ernstig oor die saak nagedink het, neem hulle Trompie nie kwalik dat hy effens skrikkerig vir Jorrie is nie. Die ou het dan elke dag by die skool in die Vrystaat baklei, en élke slag gewen, totdat hy later niks meer teenstanders oorgehad het nie. Die amptelike vergadering is verby. Die vier seuns stap tot by die dam in die kloof. Hulle voel nie meer so uitbundig nie. Dit is asof die swaar wolk in die lug oor hul harte ook hang. Hulle besef daar sal iets omtrent Jorrie gedoen moet word. By die dam steek elkeen ’n voet in die water, maar dis yskoud. Dit laat hulle nog meer mismoedig voel. Hulle sal eers oor ’n hele paar weke kan begin swem. Om sake te vererger, word die donker wolk in die lug al hoe swaarder en dan begin die druppels val. Die vier seuns en die hond reën papnat. Trompie kom koud, nat en vies by die huis aan. Boesman draf stert tussen die bene reguit kombuis toe. Daar is mos ’n warm stoof. Trompie gaan by die voordeur in. In die portaal is daar ’n kapstok. Trompie staan altyd in die voordeur en gooi sy pet dan dat dit netjies op een van die penne val. Hy gooi nooit mis nie.
Hy maak nou weer so – maar dis mis! Die pet swaai een keer om die pen en val dan op die vloer. “Heng, dit ook nog,” sê Trompie mismoedig. Alles loop vanmiddag verkeerd. Hy was vanoggend net een keer in die moeilikheid by die skool, maar vanmiddag, vandat Dawie hulle van Jorrie se stories oor hom en Orgina vertel het, loop alles sommer net skeef. Die water is nog te koud om te swem, hulle het natgereën, en nou kan hy nie eens sy pet oor die kapstok gooi nie. Boonop gaan sy ma seker ook nog met hom lol omdat hy so nat is. “Trompie!” Hy sug. Hy dink skaars aan haar, dan roep sy hom. “Ja, Ma, ek kom.” Trompie hang sy pet aan die kapstok op. Hy wil dit nie weer probeer gooi nie, want dit sal tog net weer mis wees. Ja-nee, die ou wêreld bly maar moeilik. Hy stap sitkamer toe waar hy sy ma met iemand hoor praat. Hul buurvrou, mevrou Gerritse, kuier by sy ma. Die twee vroue kyk verbaas na Trompie wat papnat is. Daar vorm ’n poeletjie water om hom op die vloer. “Middag, Tannie,” groet Trompie die buurvrou, kyk dan na sy ma en vra: “Ma het geroep?” “Ja, maar wat makeer jou?” “Niks nie, Ma.” “Hoekom is jy so nat?” “Ons was in die kloof, toe vang die reën ons op pad terug.” “Jy sal koue vat, Trompie. Gaan droog jou af en trek ander klere aan. Dan kan jy Katrien ’n bietjie gaan geselskap hou. Sy sit en lees in die studeerkamer.” “Ja, Ma,” sê Trompie sugtend. Hy is nie juis lus vir Katrien nie, maar wat kan hy nou doen?
Katrien is ’n sproetgesigmeisie met twee lang vlegsels. Op laerskool het sy net voor Trompie gesit en dit was altyd vir hom groot pret om haar vlegsels te trek. Katrien-hulle woon al jare lank langs die Toeriens, en sy kom eintlik goed met Trompie en sy vriende oor die weg. Sy was eens op ’n tyd selfs ’n halwe lid van die Boksom-bende, maar daardie twyfelagtige voorreg het haar ’n klomp geld gekos. Die seuns het vir hulle lekkers daarmee gaan koop en haar nooit eens na een van hul vergaderings toe genooi nie. Katrien was ook ’n keer Trompie se meisie... maar net vir ’n paar uur. Dit was sodat hy vir sy vriende kon wys hy kan ’n meisie kry as hy een wil hê. Trompie het lankal besef dit strek tot sy voordeel om in Katrien se goeie boekies te bly. Sy is saam met hom in die klas, en sy is besonder slim. Sy het hom al baie met sy skoolwerk gehelp. Nogtans is hy nie nou lus om met Katrien te gesels nie. Hy sal liewer wil lees. Sy sit mos ook en lees en hul ma’s sal mos nie weet as hulle nie eintlik gesels nie. Dit maak tog nie saak of hulle net sit, of sit en lees, of sit en gesels nie. Sy ma het seker maar net gedink dis nie mooi om Katrien so alleen te laat sit nie. Trompie haal ’n strokiesprent van Die Skim onder sy kopkussing uit. Hy moet sy strokiesprente altyd hier in sy kamer wegsteek omdat sy ma en pa nie daarvan hou dat hy die goed lees nie. Trompie steek die strokiesprent onder sy hemp weg en stap studeerkamer toe. Katrien sit in ’n groot gemakstoel. “Haai!” groet hy haar. “Middag,” sê sy en klink maar kil. Sy glimlag nie so vriendelik soos gewoonlik nie. Trompie wonder wat oor haar lewer geloop het, maar vroumense is mos snaakse goed. Hy sal haar ignoreer. Hy is tog nie nou lus om te vra wat haar makeer nie. Hy wil sien hoe die Skim gaan loskom met ’n galgtou om sy nek en duisende lede van ’n bloeddorstige stam met skerp spiese om hom. Trompie sit gemaklik op die rusbank, haal sy strokiesprent uit en begin aandagtig lees. Katrien hou hom dop oor die dik boek wat sy in haar hande het. Sy wonder of
die stories waar is. Dit klink vir haar amper onmoontlik, maar seuns is mos snaakse goed. Sy sal hom vandag moet vra. Katrien byt vasberade op haar onderlip. As dit waar is, praat sy sowaar nooit weer met hom nie! Sy weet nie hoekom dit haar so ontstel nie. Die hele affêre het niks met haar te doen nie, maar as dit waar is, gaan sy beslis nooit weer met hom praat nie. Katrien besluit om hom te vra en dit verby te kry. “Trompie?” “Wag bietjie,” sê Trompie en lig sy hand vir stilte terwyl hy aanhou lees. Dan begin hy lag en sê: “Ek het dit geweet. Die Skim is te sterk en te slim vir daai spul.” Katrien glimlag effens. Trompie gooi die strokiesprent langs hom neer en rek homself uit. “Die stam wou hom ophang,” vertel hy, “omdat hul towe-naar so gesê het, maar weet jy hoe kom die Skim toe los?” “Nee.” Katrien skud haar kop. Sy stel nie in die minste belang om te weet nie. Sy wil hom mos nou die belangrike vraag vra – of dit wat sy gehoor het waar is. Maar Trompie gee haar nie kans om te praat nie. Hy vertel opgewonde hoe die Skim ontsnap het. Soos Katrien die ding verstaan, het die Skim op die regte oomblik – net toe hulle die tou wou styf trek sodat hy soos ’n spartelende vink in die lug moes hang –’n geweldige skop gegee. “Hy het al sy krag in daai skop gesit,” sê Trompie en sy oë blink van genot, “en toe tref hy die towenaar vol in die pens...” “In die wát?” Katrien kyk met geligte wenkbroue na hom. “In die... die dinges, man, die maag. Hy het die towenaar vol in die maag getref.” Trompie vertel entoesiasties verder. Die towenaar se wind was glo heeltemal uit en toe skiet die Skim soos ’n pyl uit ’n boog vorentoe en gryp die kreunende man en ruk sy masker af.
“En weet jy wat sien die stam toe?” vra Trompie met groot oë. Katrien skud weer haar kop en sug. “Die towenaar is ’n lid van ’n ander stam!” Trompie sê dit soos iemand wat ’n groot geheim verklap. “’n Ander stam wat hul vyand is. Hoe’s daai vir jou?” Katrien probeer belangstel, maar dit klink vir haar maar na ’n lawwe strokiesprent. Trompie vertel nou hoe vies die stam was dat die towenaar hulle so gekul het. Hulle het die man voor jy nog mes kon sê, met hul skerp spiese van die gras af gemaak, en die Skim toe laat gaan. “Dis wonderlik, nè?” sluit Trompie af. “Ja, dit is.” Katrien sug swaar. Trompie tel die strokiesprent weer op. Hy gaan nou die Skim se volgende verhaal lees. Dit behoort selfs nog interessanter te wees. Die Skim ontmoet mense van ’n vreemde planeet af, en hulle wil hom met geweld in hul vlieënde piering soontoe neem. “Trompie,” sê Katrien vinnig voor hy in hierdie strokiesprent ook verdiep raak. “Ja?” Trompie kyk op. Hy voel effens skuldig. Dis seker nie goeie maniere om net te praat oor wat hý lees nie. “Wat lees jý, Katrien?” vra hy om te wys hy stel in haar ook belang. “Ek lees nie. Ek het gesit en leer.” “So?” “Ja. Ken jy dan nie dié boek nie?” Sy lig die dik boek op en Trompie kyk daarna. Dit lyk vir hom nogal bekend. “Dis ons natuurwetenskaphandboek, Trompie. Ek leer Boyle se Wet.” Trompie wonder hoekom almal so Boyle-se-Wet verskrik is. Hy sal voor die eksamen moet uitvind hoe die ding nou eintlik werk. “Trompie,” sê Katrien en kyk fronsend na hom, “ek wil jou iets vra.”
“Ja?” Maar Trompie loer met sy een oog na die prentjie waar die Skim versigtig om die ruimtetuig beweeg wat soos ’n omgekeerde piering tussen die bome lê. Niemand het nog uit die ding geklim nie. “Sit daardie strokiesprent eers neer.” Trompie doen dit vies. Wat wil die meisiekind hê? Hoekom leer sy nie Boyle se Wet en laat hom sy strokiesprent in rus en vrede lees nie? “Ja, Katrien?” “Is dit waar?” Sy kyk reguit na hom. “Is wat waar?” Trompie kyk na sy regterskoen se punt wat so ingeduik is van al die blikke en klippe wat hy gedurig loop en skop. “Dat jy ’n meisie het?” Trompie voel ’n kriewelrige gevoel langs sy ruggraat. Hy bal sy vuiste. Katrien het so wraggies ook al die belaglike storie gehoor. “Dit het natuurlik niks met my te doen nie,” sê sy verleë, “maar ek het net gewonder of dit waar is. Dis maar al. Al die kinders lag en praat daaroor. Hulle sê Orgina is jou meisie. Soos ek sê, dit het natuurlik niks op aarde met my te doen nie. Ek het maar net gewonder of jy nie iemand beter kon gekry het nie... Dis al. Ek het maar net gewonder...” “Wie het dié storie begin?” vra Trompie vererg. Hy weet wat die antwoord op die vraag is, maar hy wil net weer seker maak. “Jorrie Jordaan,” antwoord Katrien. “Hy sê vir almal jy is dolverlief op Orgina, en hulle moet jou dophou wanneer jy na haar kyk. Jy lyk dan glo soos ’n verliefde makou.” “Dis nie waar nie!” sê Trompie bars. Katrien glimlag. Sy het geweet dit kan nie waar wees nie. Noudat Trompie ontken dat Orgina sy meisie is, voel Katrien sommer baie beter. Die son skyn sommer weer vir haar.
“Jy weet, Trompie,” sê Katrien skielik, “jy moet iets doen om Jorrie se mond te snoer.” Trompie sug omdat hy weet dit gaan moeilik wees, maar dan sê hy vasberade: “Ja-nee, sy bek moet toegemaak word.” “Ek het nie gesê... dinges nie... Ek het ‘mond’ gesê,” keer Katrien preuts. “Dis dieselfde ding,” brom Trompie en staar ingedagte voor hom uit. Hy moet iets doen – en gou ook. Hy en Jorrie Jordaan moet hierdie ding uitbaklei. Dit is onvermydelik. Hy wens net die ou was nie so groot en sterk en so ’n goeie bakleier nie. Maar daar is nie nou meer omdraaikans nie. Hulle gaan bots, en dit gaan ’n geveg duisend wees.
3
Die geveg duisend! (1)
Dié aand leer Trompie so ’n bietjie, maar nie veel nie. Hy kan nie konsentreer nie. Hy dink aan Jorrie Jordaan. Hy sit met sy skoolboeke voor hom omdat sy pa gesê het hy moet sy skoolwerk doen en nie soos ’n siek hoender deur die huis ronddwaal nie. Trompie besluit vasberade hy gaan môre by die skool reguit na Jorrie toe loop, hom aan die bors pluk, ’n paar keer hard skud sodat sy tande klap en hom dan bars toesnou: “Trek terug wat jy van my gesê het! Erken voor almal dis ’n leuen!” Trompie hou van hierdie toneeltjie. Hy sien in sy verbeelding hoe Jorrie bleek word van die skrik en stamel: “Asseblief, Trompie. Ek vra om verskoning. Ek sal nooit weer so iets sê nie.” En dan – Trompie glimlag tevrede by hierdie gedagte – sal hy Jorrie stamp dat hy val en sarkasties vir almal wat om hulle staan, sê: “Daar lê die Vrystaat se kastige wonderlike bakleier! Kyk watse papbroek is hy!” Die kinders sal hom met heldeverering in hul oë aanstaar en meer as een sal hardop en vol bewondering sê: “Sjoe, Trompie darem...” Trompie is nou in so ’n goeie bui dat hy besluit hy sal dan vir almal wys hoe edel hy is. Hy sal die bang en verskrikte Jorrie aan sy kraag optel en hard en streng sê sodat almal hom duidelik kan hoor: “Jorrie, jy het nou om verskoning gevra en belowe jy sal nooit weer so gemeen en agteraf wees nie. Ek vergewe jou. Hier’s my hand.” Dan sal Jorrie sy hand gryp en Trompie bedank. Hy sal ook ewige vriendskap
aan die Boksombende se Groot-kaptein sweer. Ja-nee, hy het sy les geleer. Hy sal nooit weer ’n boelie wees nie. Trompie steek sy hand nou hier in sy kamer ook voor hom uit, al is Jorrie nie hier om dit te vat en te skud nie. Hy is so droomverlore, dat hy nie eens agterkom hoe verbaas sy pa en ma hom aankyk nie. “Wat’s dit met jou, seun?” vra sy pa skielik. “Hè, Pa?” Trompie keer terug van sy verbeeldingsvlug. “Hoekom is daar so ’n snaakse glimlag op jou gesig en hoekom hou jy jou hand so voor jou?” Trompie kyk verbaas na sy uitgestrekte hand. Hy gee ’n verleë laggie en wikkel sy vingers. Toe hy sien hoe vuil hulle is, laat hy sy hand vinnig sak en steek dit onder die tafel weg. “Ek’t sommer ’n bietjie gesit en dink, Pa weet,” probeer hy ongemaklik verduidelik. “Beslis nie oor skoolwerk nie,” sê sy ma glimlaggend. Sy ken haar seun. Hy het natuurlik oor iets aangenaams gesit en droom. “Nee, nie eintlik nie, Ma,” sê Trompie en glimlag droogweg. Hy wens tog so die toneeltjie wat hy in sy verbeelding gesien het, kan waar word! Maar hy is bevrees dit sal nie gebeur nie. As hy Jorrie aan die kraag pak, sal die ou waarskynlik sommer net begin slaan. Hy is mos ’n bobaasbakleier. En dit lyk deesdae of hy Trompie opsetlik uittart – asof hy graag teen Trompie wil baklei. Trompie besef dit is natuurlik omdat Jorrie dink hy sal hom wat Trompie is, maklik kan klop. Maar daai Vrystater moet oppas! Trompie bal sy vuiste. Nogtans, hy wil nie eintlik baklei nie. Dis nie omdat hy voel dit is verkeerd om te baklei nie. Dit is omdat hy skrikkerig is. Nie bang nie, net skrikkerig. Later die aand besluit Trompie hy gaan niks doen in verband met Jorrie se storie
dat Orgina sy meisie is nie. Hy sal die ou nog ’n kans gee, maar as Jorrie weer iets doen wat sy naam sleg maak, sal hy hom... Trompie sug swaar. Hy hoop maar Jorrie hou op met sy nonsens. Trompie sal dit natuurlik nooit erken nie, maar hy is nie skrikkerig nie. Hy is bang, sommer baie bang. Die toekoms en die noodlot sal maar moet besluit of hy en Jorrie mekaar gaan takel, of nie. En dit gebeur toe baie gouer as wat Trompie verwag – sommer die volgende dag al! Hy sit in die klas en kom agter meer as een van die kinders kyk skelm na hom en begin dan grinnik, maar hy ignoreer dit eers. Dis mos wat hy besluit het om te doen. Rooie sit langs Trompie, en Dawie en Blikkies sit net agter hulle. In die ander ry oorkant Trompie sit Katrien en ’n vriendin van haar. Drie banke voor Katrien sit Orgina, die meisie wat volgens Jorrie kastig Trompie se meisie is. Trompie se volle aandag is vandag by sy werk. Hy hoop daar gaan niks gebeur wat hom en Jorrie mekaar laat takel nie. Hy wil vandag mooi lewe. Trompie doen sy bes met die wiskunde wat hulle moet doen, maar dit is ’n ingewikkelde probleem. Hy moet uitwerk hoe lank dit sal neem om ’n groot bad vol water te tap. Water uit twee krane loop gelyktydig in die bad. Die een kraan is egter groter as die ander een oopgedraai. Om dinge nog moeiliker te maak, is daar nie ’n prop in die bad nie, en die water stroom amper net so vinnig uit as wat dit inkom. “Dis simpelgeit. Sommer ’n mors van water,” mompel Trompie by homself. Hy dink hard, maar kan nie kop of stert van die ingewikkelde som uitmaak nie. Hy loer om te kyk hoe Rooie met die som vorder, maar sy vriend het die stryd lankal gewonne gegee. Hy sit en teken bobbejane in sy wiskunde-oefeningboek. Trompie stamp aan Rooie. “Hè?” fluister sy vriend.
“Hoekom doen jy nie die som nie?” “Ek kan nie,” fluister Rooie en voeg by, “ek dink nie ons het al die gegewens nie.” Trompie lees die som weer versigtig deur. Dit lyk vir hom ook of hulle nie al die gegewens het nie. Rooie hou soveel van hierdie geleerde sin wat by hom uitgeglip het dat hy nou vir almal om hom vertel hulle sukkel met die som, want hulle het nie al die gegewens. “Bly stil en gaan aan met jou werk!” sê die jong onderwyser en kyk kwaai na Rooie. “Ja, Meneer,” sê Rooie en teken nog ’n bobbejaan. Trompie het nie ’n benul hoe om die som te doen nie, maar hy wil nie so gou moed opgee nie. Hy wil vandag mos mooi lewe. Hy lees die som weer aandagtig deur en is dan ook oortuig dat hulle nie al die gegewens het nie. Trompie steek sy hand in die lug. Die onderwyser sit by die tafel voor in die klas en doen nasienwerk. Hy kyk glad nie op nie. Trompie klap met sy vingers. Dit klink soos ’n sweepslag in die stil klas. Meer as een leerder ruk van die skrik. Trompie glimlag selfvoldaan. Jissie, wie sou nou kon dink die geluid gaan só hard wees? Die onderwyser kyk kwaai na Trompie. “Ek het al hoeveel keer gesê julle moenie julle vingers klap nie. As julle iets wil hê of vra, moet julle net julle hande opsteek.” Trompie dink dit is darem sowaar onregverdig. As hy net sy hand opgesteek het, sou hy die hele periode só daarmee in die lug moes gesit het. “Wat wil jy hê?” “Meneer,” sê Trompie en staan op, “ek kan hierdie som nie doen nie.”
“Dit verbaas my nie,” sê die onderwyser smalend. “Jy let mos nooit op wanneer ek iets verduidelik nie.” Trompie voel dit is ’n onregverdige aantyging. Hy let darem partykeer op. En vandag het hy beslis opgelet, want hy wil mos mooi lewe. “Meneer, ek hét geluister – maar ek verstaan die som nie mooi nie.” Dan voeg Trompie iets by wat die onderwyser sommer baie kwaad maak: “Is Meneer seker Meneer het vir ons al die gegewens gegee?” “Dis my sin daardie,” mompel Rooie trots vir die kinders om hom. “Natuurlik het ek!” Dit lyk of die jong, onervare onderwyser sommer wil opspring en Trompie bydam. “Dink jy ek sal vir julle ’n som gee en dan nie al die gegewens verstrek nie?” “Nee, Meneer,” sê Trompie vinnig. “Ek het maar net gedag daar is miskien ’n foutjie in die gegewens. Dis maar al, Meneer weet.” “Ek maak nie sulke onnosel foute nie!” blaf die onderwyser. Trompie voel ’n krieweling langs sy ruggraat. Hy wil vandag mooi lewe, maar hierdie nuwe onderwyser maak dit amper onmoontlik. Hy kan die versoeking nie weerstaan nie en vra met ’n onskuldige gesig: “Is daar niemand in die bad nie, Meneer?” “Nee, hoekom sou daar wees?” Die jong onderwyser kyk nou aandagtig na Trompie. Hy wonder of hierdie sproetgesig met die ongekamde boskasie en die kouse wat so op sy skoene lê, besig is om met hom die gek te skeer. “Wel, gewoonlik ís daar mos iemand in die bad wanneer daar water in is,” verduidelik Trompie. “In hierdie geval is daar nié!” “Reg, Meneer.” Trompie lyk so vroom en soet asof ’n suikerklontjie nie in sy mond sal smelt nie.
“Ek het maar net gewonder, Meneer, want as daar iemand in die bad was, kon die iemand mos die prop ingesit het. Dan sou die water nie so gemors word nie, Meneer weet.” Die klas grinnik. Party kinders lag hardop. “Stilte!” Almal is tjoepstil. “Dit het niks met jou te doen of die water gemors word, of nie. Sit en gaan aan met jou werk!” “Ja, Meneer,” sê Trompie. Hy voel nou nie meer so gekrenk dat die onderwyser hom onregverdig behandel het nie. Hy het darem ook sy sê gesê en so ’n bietjie pret gemaak. Trompie sug. Die feit bly staan – hy het nie die vaagste benul hoe om die som te doen nie. Hy begin nou maar ook teken. Hy sal vir Rooie wys hy kan mooier bobbejane as hy teken. Wanneer Trompie moeg is om bobbejane te teken, sit hy en kyk na Orgina wat skuins voor hom sit. Hy wonder hoe enigiemand kan glo hy sou haar gevra het om sy meisie te wees. Sy werk aan die som en glimlag selfvoldaan. Sy is die enigste een in die klas wat hierdie probleem kan oplos! “Klikbek en inkruiper,” brom Trompie. En om te dink Jorrie koppel haar naam aan hom! Trompie draai sy kop verder links en kyk na waar Jorrie sit. Die Vrystaatse seun het lankal opgehou probeer om die som te doen. Hy skryf of teken nou op stukkies papier wat hy dan vinnig oor sy skouer vir die kinders agter hom aangee. Hulle giggel met hul hande voor hul monde wanneer hulle daarna kyk. Dan loer hulle vlugtig na Trompie en Orgina en proes weer van die lag. Trompie weet Jorrie is besig om iets oor hom en Orgina te skryf of te teken. Hy maak maar asof hy nie daarvan weet nie, want hy kan nou niks aan die saak doen nie, al wil hy ook.
Maar hy wil nie. Hy het mos besluit as Jorrie weer ’n ding probeer, gaan daar moeilikheid wees. Hierdie besigheid van hom en Orgina is iets wat Jorrie vantevore al gedoen het, so dit tel nie. Pouse wys ’n paar kinders vir Dawie, Rooie en Blikkies die tekeninge wat Jorrie van Trompie en Orgina gemaak het. Daar is een met twee harte wat deur ’n pyl deurboor word. Onder die een hart is geskryf: Hart nommer 1 – Trompie s’n en onder die ander een: Hart nommer 2 – Orgina s’n. “Maar wat dit so erg maak,” vertel Dawie later ontsteld, “is wat Jorrie reg onderaan geskryf het: Hart nommer 1 is maar ’n bang hart!” “Hy sê jy’s bang, Trompie – bang om teen hom te baklei!” sê Rooie. “Ek is nie bang nie,” sê Trompie. “Ek het julle mos vanoggend gesê: laat hom net met iets nuuts begin, dan sal julle ’n ding sien. Hierdie Orgina-stories is nou al ’n ou ding.” Rooie, Dawie en Blikkies kyk skepties na Trompie. Dit lyk sowaar vir hulle of hy regtig bang is. Daardie selfde middag ná skool gebeur die “iets nuuts” waarvoor Trompie gewag het! Trompie, Rooie en Blikkies ry op hul rooi fietse huis toe. Dawie is nie by hulle nie. Hy moet eers by die koshuis langs gaan om vir die matrone ’n boodskap van sy ma te gee. Trompie gesels oor alles onder die son. Hy probeer maak of hy nie opmerk hoe die ander skoolkinders lag wanneer hulle hom sien nie, maar Rooie en Blikkies gluur die spul vies aan. By die straathoek waar die drie in verskillende rigtings moet afdraai, spreek hulle af om ná ete in Rooie se buitekamer te ontmoet. Hulle sal dan besluit wat hulle vanmiddag gaan doen. Hulle gaan sommer vir Dawie ook haal. Dis belaglik om nou al vir die eksamen te begin leer en hoe gouer Dawie dit besef, hoe beter vir hom. Anders gaan hy mos alles vergeet het teen die tyd dat die eksamen begin.
’n Rukkie ná ete sit Trompie af na Rooie se huis toe. Dit is ’n pragtige, wolklose middag. Hy wil voorstel dat hulle die grotte in die kloof gaan verken. Dalk kry hulle verborge skatte of sulke goed daar. Niemand het dit nog gewaag om diep by die grotte in te kruip nie. Trompie fluit toe hy naby Rooie se buitekamer kom. Hy hoor Rooie se fluit, dan Blikkies s’n, en dan ook Dawie se fyn piepfluitjie. Trompie frons. Dawie s’n klink nog meer pateties as gewoonlik. Hulle sal hom moet leer om ordentlik te fluit soos dit ’n lid van die Boksombende betaam. Trompie is bly Dawie is darem ook hier. Dit beteken hopelik hy glo nou sy Grootkaptein se teorie dat ’n mens nie te vroeg vir die eksamen moet begin leer nie. Trompie klouter deur die buitekamer se venster. “Haai,” sê hy sonder om vir sy vriende te kyk. Sy aandag is by die stoel wat hy omswaai sodat hy agterstevoor daarop kan gaan sit. “Haai,” kom Rooie se growwe stem. Hy klink vies. “Haai,” hoor Trompie Blikkies se lui stem. Hy klink ook vies. “Haai,” kom ’n piepstem en daar is duidelik ’n snik in, asof Dawie huil of gehuil het. Trompie kyk om vanwaar hy die stoel regsit en sien nou eers wat aangaan. Rooie is besig om Dawie se oog versigtig met ’n nat waslap af te vee. Blikkies hou sy hand op Dawie se hare en maak aanhoudend simpatieke geluide. Trompie voel hoe sy bene lam onder hom word. Hy sak verdwaas op die stoel neer. Hy kan sy oë nie glo nie. Dawie se een oog is amper toegeswel – dit gaan binne ’n uur of twee ’n prag van ’n blouoog wees – en sy hare is vol kougom gesmeer. “Wat... wat het gebeur?” vra Trompie. Toe hy die vraag vra, weet hy sommer wat die antwoord gaan wees. Dawie het mos eers by die koshuis langs gegaan. “Jy vra nog?” sê Rooie en kyk kwaai na Trompie. “Kan jy nie sien wat gebeur het nie?”
“Is jy blind?” mompel Blikkies en spoeg die grashalmpie waaraan hy gekou het met ’n boog by die venster uit. Rooie en Blikkies lyk briesend kwaad vir Trompie. As hy ferm opgetree het, sou Dawie nie so ’n opstopper gekry het nie, en sou sy hare nie so met kougom betakel gewees het nie. “Hoe het dit gebeur?” vra Trompie simpatiek. Hy kom sit langs Dawie op die bed. Dawie kyk na Trompie. Hy snik nog so effens. Daar swem trane in die oog wat nie toe is nie. “Dit was daai boelie van ’n Jorrie,” sê Dawie in ’n klein stemmetjie. Dit lyk of hy weer wil begin huil. “Ek het so gedink,” sê Trompie sag. “Ek wil weet wat presies gebeur het.” Dawie begin snikkend vertel. Hy het by die koshuis se gronde ingery om sy ma se boodskap vir die matrone te gee. ’n Klomp seuns het daar rondgedrentel en toe Dawie sy fiets neersit, het hulle nader gestaan. Jorrie Jordaan was heel voor en sê toe: “Dis die lelikste fiets wat ek nog ooit gesien het.” Dawie vertel hy het probeer om nie notisie van Jorrie en die ander ouens te neem nie, want hy was maar skrikkerig. Toe vertel een seun vir Jorrie die vier lede van die Boksombende se fietse is almal só rooi geverf, en Trompie is hul kaptein. “Daai askoek wat so verlief op Orgina is!” het Jorrie smalend gesê. Dawie was teen daardie tyd al by die koshuis se ingang, maar hy het gevoel hy moet Jorrie antwoord. Hy kon nie anders nie. Hy het omgedraai en vies gesê: “Trompie is nie ’n askoek nie, en hy is nie verlief op Orgina nie. Dis iets wat jy uit jou duim gesuig het, Jorrie.” Toe gaan Dawie met ’n astrante wipstappie by die koshuis in. Hy het sy sê gesê, maar sy hart het wild geklop. Hy was baie bang. Trompie is bleek. Hy sit met gebalde vuiste. Hy kyk ingedagte na sy ingeduikte
skoenpunt. Hy voel die tyd het aangebreek – die tyd vir die geveg duisend. “En toe, Dawie?” vra hy sag. “Ek het vir die matrone die boodskap gegee en is toe weer uit. Maar toe sak my hart in my skoene. Jorrie en ’n paar van sy trawante het nog steeds daar by my fiets gestaan. Ek het gehoop hulle sou weg wees wanneer ek uitkom, maar hulle het vir my gewag. Ek het sommer geweet Jorrie gaan met my sukkel.” Dawie aarsel ’n oomblik. Die trane blink weer in sy een oog. Die ander een is nou feitlik heeltemal toegeswel. “Ek het hom en die ander ouens geïgnoreer, en was verlig toe ek sien hulle neem ook nie juis notisie van my nie. Dis eers toe ek op my fiets wou klim dat ek sien daar’s fout. Al twee my bande was pap – en julle weet natuurlik wie dit gedoen het!” Trompie, Rooie en Blikkies knik. Ja-nee, dit kos nie veel verbeeldingskrag om dit uit te werk nie. “Toe kyk ek reguit na Jorrie en sê vir hom: ‘Het jy my wiele afgeblaas?’ Toe kyk hy met ’n grynslag op sy bakkies na my en sê: ‘Ja, en wat daarvan?’” Dawie snik. Dit is stil in die buitekamer, behalwe vir die gedempte snikgeluide. Trompie, Rooie en Blikkies is al drie bleek. Rooie hou die nat waslap weer op Dawie se seer oog en Blikkies probeer van die kougom uit sy hare kry. “Wat het jy toe gesê, Dawie?” vra Trompie. Sy hart bons. Vandag is die dag. “Ek het net ‘O’ gesê,” antwoord Dawie. “Wat anders kon ek sê? Hy is mos heeltemal te groot en sterk vir my om hom te probeer pak.” Trompie-hulle ril by die gedagte aan Dawie wat vir Jorrie te lyf gaan – maar op die ou end is dit presies wat hy gedoen het! Dawie vertel nou hy het sy fiets se pomp toe maar gevat en die bande begin oppomp. Die spul seuns het hom laggend staan en dophou. Hy was net mooi klaar met die tweede band en wou sy pomp wegsit, toe sê Jorrie: “Haai, jy! Japsnoet!”
Dawie het kil na Jorrie gekyk en gesê: “Ja?” “Verbeel ek my, of het jy my netnou ’n leuenaar genoem?” Dawie het Jorrie dadelik geantwoord dat hy hom dit moes verbeel het. Hy kan nie onthou dat hy enigiemand ’n leuenaar genoem het nie. Maar toe wys Jorrie met ’n groot, growwe hand na die ander ouens en sê: “Hulle’s my getuies” en die seuns het almal soos een man kop geknik. Jorrie het verduidelik dat Dawie hom indirek ’n leuenaar genoem het, toe hy gesê het Jorrie suig dit uit sy duim dat Trompie en Orgina kêrel en meisie is. Dawie wou verduidelik dat hy dit nie só bedoel het nie, maar dit is tevergeefs. Jorrie wou hom só uittart dat hy later uit skone frustrasie sy hande teen die groot seun sou lig. Party van die ander het Dawie jammer gekry en gesê Jorrie moet die outjie uitlos, maar hy wou nie hoor nie. “Hy’t my ’n leuenaar genoem,” het hy bars gesê, “en niemand noem Jorrie Jordaan so iets nie.” Hy het woes na die klomp gegluur en bygevoeg: “Julle beter nou stilbly. Of as een van julle wil uitstaan – kom dan!” Dawie het vol hoop na die seuns gekyk, maar niemand wou uitstaan nie. Inteendeel, hulle het almal effens teruggestaan en gesorg dat hulle nie Jorrie se oë vang nie. “Los jou fiets en kom hier!” het Jorrie toe skielik beveel. Die arme Dawie het maar so gemaak en met bewende kniekoppe nader gestaan. “Wil jy baklei?” Dawie het Jorrie verseker dat hy nie wil nie. Dit was die laaste ding waarvoor hy nou lus was. “Jy is net so ’n lafaard soos jou papbroek van ’n vriend, Trompie!” het Jorrie smalend gesê.
“En toe?” vra Trompie, Blikkies en Rooie byna gelyk. Dawie byt op sy onderlip hier waar hy in Rooie se buitekamer sit. “Toe sien ek rooi en skree hard vir hom...” Dawie bly stil. Die stilte in die kamer is intens. “Wat... wat het jy geskree?” vra Trompie. “Staan agter jou appels, jou boelie!” “Rêrig?” vra Trompie verstom. “Rêrig,” sê Dawie trots. Trompie-hulle kyk glimlaggend na hul vriend. Dat Dawie nou só dapper kon wees! Hy het mos nie ’n kat se kans teen die Vrystaat se bobaasvegter nie. Dawie vertel hoe Jorrie eers effens verbaas was, en toe laggend sy groot vuiste voor hom uitgesteek het. “En toe bevlieg ek hom,” sê Dawie opgewonde. “Ek het woes en hard geslaan.” Trompie-hulle sit gretig en luister. Dawie sê liewer niks van die feit dat hy skoon mis geslaan het nie. “En toe sien ek skielik net sterretjies,” gaan hy voort. “Jorrie se groot vuis het my op die oog getref en ek het geval. Ek het miljoene sterretjies gesien.” Dan vertel Dawie sag en verneder hoe Jorrie hom weer terug op sy voete gepluk, en die kougom toe oral aan sy hare vasgeplak het. Party van die seuns het gesê dis lelik om Dawie so te behandel, maar Jorrie het hulle net ’n vuil kyk gegee en toe bly hulle tjoepstil. “En toe stamp hy my dat ek oor my fiets val,” vertel Dawie verder. “En toe sê Jorrie: ‘Gaan sê vir jou vriend, Trompie, ek is reg vir hom, maar ek weet hy’s te bang om my aan te vat’. Toe gryp ek my fiets en laat spat – en hier sit ek nou met ’n toegeswelde oog en kougom in my hare.”
Die vier seuns is stil. Elkeen sit met sy eie gedagtes. Rooie wag vir Trompie om eerste te praat. Hy besluit egter as Trompie – die beste bakleier onder hulle vier, en ook die Boksombende se Grootkaptein – nog steeds niks gaan doen nie, sal hy wat Rooie is self vir Jorrie uitdaag, al slaan die vent hom ook dood. Blikkies sit dieselfde en dink. As Trompie nie iets doen nie, gaan hy! Hy is nie ’n ou wat eintlik kan baklei nie, maar hy sal Jorrie aandurf. Hy moet terugbetaal word vir hoe hy die arme klein Dawie mishandel het! Trompie besluit die tyd het nou aangebreek om Jorrie aan te vat. Hy het nie meer ’n keuse nie. Hy moet dit nou doen. Hy het mos gesê hy wag net tot Jorrie weer moeilikheid soek – en nou hét hy mos. Hy het Dawie lelik seergemaak toe Dawie homself probeer verdedig het. Trompie voel skrikkerig, maar tog ook vasberade! Hy weet nie wat die uiteinde van die geveg gaan wees nie, maar hy gaan sy bes doen om vir die boelie ’n loesing te gee wat hy nooit sal vergeet nie. Dawie, Blikkies en Rooie kyk aandagtig na Trompie. Hy staar fronsend na sy ingeduikte skoenpunt. Dan sê hy skielik: “Kom, ouens!” en staan op. Die drie kyk vlugtig na mekaar en glimlag. “Waarheen gaan ons?” vra Blikkies net om seker te maak hulle raak nie verniet bly nie. Netnou wil Trompie net hê hulle moet almal kloof toe gaan. “Ons gaan koshuis toe. Dis tyd om met Jorrie af te reken!” “Mooi so, Trompie!” sê Rooie opgewonde en slaan hom hard op die skouer. “Ditsem, Trompie!” sê Blikkies geesdriftig. “Jy gaan daai ou ’n lekker les leer!” Blikkies spring vinnig by die venster uit. Hy voel verlore sonder ’n grashalmpie in sy kieste. Hy gaan gou een haal. “Ek het daai boelie gewaarsku toe ek daar wegry,” sê Dawie en sy een oog straal. “Ek het gesê: ‘Wag tot Trompie hiervan hoor, dan sal jy ’n ding sien!’ En nou gaan hy!”
Trompie is die Boksombende se held. Sy drie vriende verseker hom hy het nie ’n bang haar op sy kop nie. Blikkies moedig hom aan terwyl hy weer by die venster inklim. Wag maar tot hy vir Jorrie takel. Daai vent sal wens hy is weer terug in die Vrystaat. Trompie kyk mismoedig by die venster uit. Hy wens hy kan ook so optimisties oor die geveg voel. Hy is nie lus vir die storie nie, maar dit móét gedoen word. Hy hoop maar vir die beste. “Nou kom ons waai,” sê hy en is vies vir homself omdat sy stem effens bewe. Hy hoop maar net sy vriende het dit nie gehoor nie. Trompie probeer vasberade venster toe stap, maar hy voel soos ’n lam wat slagpale toe gelei word. “Wag bietjie,” sê Dawie skielik. Trompie is meer as bereid om te wag. Hy staan stil en kyk na Dawie. Rooie en Blikkies wat intussen opgestaan het om saam met Trompie koshuis toe te loop, gaan weer sit. Dawie sê nou hy het daar by die koshuis gehoor die kinders gaan ná studietyd almal in ’n groep dorp toe stap om inkopies te doen. Dit beteken Jorrie sal nie by die koshuis wees nie – en Trompie sal hom nie in die dorp kan bykom nie, want daar sal mos ’n onderwyser by die koshuiskinders wees. Hierdie nuus laat Trompie beter voel. Hy kom sit weer wydsbeen en agterstevoor op die stoel. Die Boksombende besluit vinnig hoe en waar Trompie die boelie gaan uitdaag. Aangesien dit nie vandag kan nie, moet dit môre gebeur. Môre is die groot dag! “Stuur vir hom ’n briefie in die klas waarin jy hom uitdaag,” stel Blikkies vir Trompie voor. “Dan spreek julle af oor ’n tyd en ’n plek vir môremiddag.” Dawie en Rooie dink dit is ’n goeie voorstel. Trompie knik net met sy kop om te wys hy stem saam. Hy praat nou nie veel nie. Dié middag gaan verken die vier vriende nie die grotte in die kloof nie. Dawie gaan huis toe sodat sy ma sy oog kan dokter en hom kan help om sy kop te was. Sy sal probeer om soveel moontlik van die kougom af te kry.
Hy vertel vir die ander hy gaan nie vir sy ma sê wie hom so verniel het nie. Dis onnodig. Trompie gaan die ou mos goed op sy plek sit. Trompie sluk swaar toe hy hierdie woorde hoor. Hy hoop maar net hy sal dit regkry. Trompie is skielik haastig. Hy moet by die huis kom sodat hy sy taktiek vir die geveg fyn kan beplan. En dan wil hy nog gaan oefen ook – voetwerk en al sulke soort dinge.
4
Die geveg duisend! (2)
Trompie is dié middag en aand besonder stil by die huis. Hy trek sy bokshandskoene aan en gaan oefen by die groot slaansak wat hy en sy vriende aan ’n boom agter in die hoek van die erf opgehang het. Hy moet fiks wees vir die groot geveg en sy reguit linker en voetwerk ’n bietjie opknap. Trompie staan reg om die slaansak te moker. Hy kyk eers rond om te sien of niemand hom dophou nie, dan begin hy liggies voor die sak ronddans. Hy oefen nou sy voetwerk. Hy moet vinnig kan beweeg as hy Jorrie se groot, gevaarlike vuiste wil ontduik. Ná ’n hele rukkie van koes en wegskram, besluit Trompie dat Jorrie nou al moeg is van gate in die lug slaan. Dit is tyd vir Trompie om aan te val. Hy moet Jorrie nou goed op sy plek sit. In ’n geboë vegtershouding beweeg Trompie skuiwend nader aan die slaansak. Hy verbeel hom dit is Jorrie wat stilstaan om ’n bietjie asem te skep. Wanneer hy binne trefafstand van die sak is, kom Trompie effens op sy tone en vlieg dan vorentoe. Hy moker die sak vinnig en hard. “Vat so!” sê hy elke keer wanneer sy vuiste in die sak wegsink. Dit is heerlik om die slaansak so aanhoudend te peper terwyl jy jou verbeel dit is die boelie, Jorrie. Trompie mik sy houe laag op die sak – dit is mos waar Jorrie se maag is. Hy moet op die maag konsentreer. Dan sal Jorrie gou moeg raak. Hygend en uitasem hou Trompie later op slaan. As hy Jorrie só vinnig en só hard in die maag kan aanhou slaan, gaan die ou nie lank staande bly nie.
Maar Trompie wonder skielik of hy dit met Jorrie sal regkry. Dit is maklik om ’n sak te moker wat nie terugslaan nie. Dit sal nie dieselfde wees as hy Jorrie takel nie. Jorrie gaan nie stilstaan nie. Hy sal hard terugslaan, én boonop kwaai aanval ook. Trompie besluit hy moet maar eenvoudig net deurdruk en vir die beste hoop. Hy sal in die proses natuurlik ook ’n paar houe moet verduur, maar dit is onvermydelik. Hy moet met vinnige voetwerk van Jorrie se swaaiende vuiste wegbly. En wanneer Jorrie later moeg is (Trompie het eenkeer in ’n boksboek gelees ’n mens word moeër as jy gedurig misslaan as wanneer dit elke keer raak is), gaan hy hom takel, en die houe op sy maag laat neerreën. Die Boksombende se Grootkaptein besluit hy gaan nie ophou baklei voor die toeskouers vir hom of Jorrie daar moet wegdra nie. Een ding is seker – hy gaan nie kopgee nie, al moet hulle hom ook met ’n ambulans daar kom haal! Trompie voel effens beter. Hy het darem nou vir hom ’n taktiek uitgewerk. Voor hy terug huis toe gaan, voer hy eers gou weer ’n paar dansies uit. Sy oë bly die hele tyd stip op sy pragtige boksskoene. Dis darem maar vir jou voetwerk duisend, dink hy selfvoldaan. Dié aand sukkel Trompie om aan die slaap te raak. Sy geweldige verbeeldingskrag werk oortyd. Die een oomblik sien hy hoe stap hy as oorwinnaar uit die kring wat die seuns gevorm het, maar die volgende oomblik sien hy weer hoe hulle hom wegdra na die ambulans toe, terwyl almal kop skud en fluister: “Arme Trompie...” Maar sê nou net, – en by hierdie gedagte glimlag Trompie soet, al is sy oë styf toe soos hy probeer slaap – sê nou net Jorrie is ’n lafaard en sê hy wil nie baklei nie wanneer hy die uitdagingsbrief kry? Sê nou hy vra voor almal vir Trompie en Dawie om verskoning? Dan sal Trompie sê: “Goed, ek vergewe jou, maar oppas as dit weer gebeur, hoor!” Dit sal mos vir almal wys hy wat Trompie is, is nie net ’n dapper vegter nie, maar ook ’n groot gees. Hy vergewe Jorrie sommer net so, en waarsku hom maar net om dit nie weer te doen nie. Ag, as dit tog maar net kan waar word – as Jorrie tog maar net nie wil baklei nie. Dit sal wonderlik wees.
En met hierdie salige gedagte raak die bekommerde Trompie uiteindelik sag aan die slaap. Die volgende oggend ry hy met ’n knop in sy keel skool toe. Hoe nader hy aan die skool kom, hoe vinniger klop sy hart. Rooie, Blikkies en Dawie is by hom. Hulle glimlag van oor tot oor. Vandag is die dag wat almal ’n ding gaan sien! Daar is nie meer kougom in Dawie se hare nie, maar hy het ’n pragtige blouoog. Hy gee egter nie om nie. Vandag gaan Trompie daai Vrystater op sy plek sit! Vandag gaan Jorrie boet vir wat hy gedoen het! Trompie wens hy kan so optimisties soos sy drie vriende wees. Hy lyk bleek en is baie bekommerd. Hy wens die geveg is al oor en verby. By die skool praat almal van Dawie se blouoog. Die ouens (behalwe ’n paar van Jorrie se trawante) is almal vies vir Jorrie. Hy is ’n boelie. Dawie is mos baie kleiner as hy. Almal wonder wat Trompie gaan doen. Dawie is ’n lid van die Boksombende, en Trompie is mos die Grootkaptein. Hy moet Jorrie op sy plek sit! Trompie praat nie veel nie. Die kinders pols Rooie, Blikkies en Dawie. Hulle fluister net dat Kwaggaberg vandag vir jou ’n ding sal sien – dan knipoog hulle en grinnik. Almal weet sommer dadelik: Trompie gaan vir Jorrie uitdaag! Die twee word noukeurig in die klas dopgehou. Niemand wil iets mis nie. Hulle wil almal uitvind waar en hoe laat die botsing – die titaniese stryd, soos een seun dit noem – gaan plaasvind. Dit is vandag besonder stil in die klas. Almal voel die spanning aan. Trompie kyk ’n keer op en sien hoe Katrien hom aandagtig sit en aanstaar. Sy glimlag vriendelik. Sy het duidelik van die geveg gehoor, en wil Trompie nou aanmoedig. Hy weet nie of hy hom dit verbeel nie, maar dit lyk of haar oë blink. Miskien kry sy hom jammer. Hy trek sy skouers op en gaan weer aan met sy werk. Hy wil dit gou klaarkry, sodat hy die brief vir Jorrie kan skryf.
Die kinders loer kort-kort vlugtig na Trompie en Jorrie, maar eienaardig genoeg kyk hulle twee nie een keer na mekaar nie. Dit is asof hulle aanvoel vandag is die dag van die groot botsing, en nou vermy hulle mekaar totdat die geveg begin. Trompie se Engelse opstel is uiteindelik klaar. Hy skeur ’n vel papier uit ’n ou oefeningboek en loer gou wat die onderwyseres doen. Sy sit by die tafel en sien ’n ander klas se opstelle na. Sy is verdiep in haar werk en kyk glad nie op nie. Die klas is mos stil. Dit is net die kans waarvoor Trompie wag. Nou kan hy die belangrike brief skryf. Hy moet sy potlood net eers skerp maak. Hy doen dit stadig totdat die potlood ’n pragtige punt het. Dan sit hy reg om te skryf. Rooie is ook klaar met sy opstel en loer belangstellend na die vel papier voor Trompie. Hy kan nie verstaan hoekom Trompie so lank neem om te dink nie. Dit hoef mos net ’n kort en kragtige briefie te wees. Rooie besluit om Trompie te help. “Skryf net waar en wanneer,” fluister hy. “Jorrie sal weet wat dit beteken.” Trompie gee Rooie ’n vies kyk. “Skryf jý die brief, of ék?” vra hy kwaai en wikkel sy neus om te wys hy is omgekrap. “Orraait, klim af van jou perdjie,” sê Rooie. Hy sit terug in hul skoolbank, maar darem só dat hy kan sien wat Trompie gaan skryf. Hy brand van nuuskierigheid. Trompie lek-lek met die punt van sy tong aan die skerp potlood. Hy dink nou ernstig. Dit moet ’n streng brief wees. Hy begin skryf:
Beste Jorrie
Met sy kop effens skeef kyk hy aandagtig na hierdie begin. Hy voel Rooie se elmboog in sy ribbes stamp. Hy draai na sy vriend toe. Daar is ’n suur uitdrukking op Rooie se gesig en hy skud sy kop om sy afkeuring te kenne te
gee. Dit lyk vir hom of Trompie vir Jorrie ’n vriendelike brief gaan skryf. Trompie sug. Hy is ook nie gelukkig met hierdie begin aanhef nie. Hy trek ’n dik streep deur die “Beste”. Net die naam “Jorrie” bly oor. Trompie kyk na Rooie. Sy vriend glimlag breed. Dis beter, ja. Skielik besef Trompie hy het in sy onderbewussyn gedink as hy die brief mooi en selfs so effens vriendelik skryf, sal Jorrie miskien nie die uitdaging aanvaar nie. Hy besef egter nou hy moenie eers aan so iets dink nie. Jorrie sál die uitdaging aanvaar. Hy soek mos al lankal daarna. En nog ’n ding – Trompie klem die potlood styf vas – dink net wat hy aan Dawie gedoen het! Nee, hulle moet die saak uitspook. ’n Vriendelike brief is buite die kwessie. Trompie begin nou vinnig skryf. Rooie lê eintlik half oor hom om te sien wat daar staan, maar Trompie se linkerhand rus op die papier soos hy dit vashou en Rooie kan omtrent niks lees nie. Trompie maak klaar en skuif die papier oor na Rooie toe. “Lees!” sê hy tevrede. Hy is seker dit sal sy vriend se goedkeuring wegdra. Rooie lees en glimlag van oor tot oor. Hy gee die brief vinnig oor sy skouer vir Dawie en Blikkies aan. Hulle moet ook mos op hoogte van sake bly. Blikkies en Dawie – veral Dawie – is ook hoogs tevrede. Trompie het kort, saaklik en op die man af geskryf. Toe Trompie die brief terugkry, lees hy dit weer deur:
Jorrie
Jy’s ’n boelie!
Jy soek my al lank - en nou gaan jy my kry! Jy moes nie gister vir Dawie
seergemaak het nie. Jy gaan daarvoor betaal! Jy sê altyd jy het al die kinders op daai Vrystaatse dorpie van jou gefoeter _–hulle was seker almal so klein soos Dawie. Kom ons kyk bietjie of jy ’n MAN kan foeter! EK DAAG JOU UIT! As jy nie ’n lafaard en ’n papbroek is nie - aanvaar my uitdaging!
Laat my weet HOE LAAT vandag en WAAR - as jy nie te BANG is nie! Ek is reg - enige tyd!
Vandag is die dag!
TROMPIE TOERIEN
Trompie glimlag tevrede. Hy hou van sy brief, veral van al die hoofletters. Dit lyk nogal indrukwekkend. Jorrie sal die uitdaging eenvoudig móét aanvaar. Dis tyd dat hulle dinge uitspook. Dit help nie om langer uit te stel nie. Trompie gee die brief vir ’n ou in die ry langs hom aan en fluister: “Dis vir Jorrie.” Dan sit Trompie terug in sy bank. So ja, die koeël is nou deur die kerk. Die ou in wie se hand Trompie die brief gestop het, gee dit gretig aan. Hy weet dit moet die uitdaging wees. Die hele klas hou die brief dop terwyl dit vinnig van een leerder na die ander aangegee word. Elkeen wat die brief kry, kyk eers gou of die juffrou nog so druk besig is en gee dit dan weer verder aan. Hulle wil nie hê die brief moet onderskep word nie. Hulle wil almal die botsing sien. “Dit gaan ’n geveg duisend wees,” fluister meer as een opgewonde. Uiteindelik kom die brief by sy bestemming aan. Jorrie vou dit oop. Die hele klas hou hom dop. Trompie maak of hy sy Engelse opstel weer deurlees, maar
loer onderlangs om te sien watter uitwerking die brief op Jorrie gaan hê. Hy wens die ou wil bleek word van die skrik! Maar Jorrie word nie bleek nie. Inteendeel, hy begin lag. Hy lag só hard dat sy hele lyf skud. “And pray, what is the matter with you?” vra die juffrou in onberispelike Engels. “Me? Sorry, Miss... Me just laugh about a joke, Miss.” Trompie-hulle kan ook nie so goed Engels praat nie, maar die Vrystater se Engels is duidelik heelwat swakker as hulle s’n. Die klas grinnik agter hul hande. “Stop your senseless laughter and carry on with your work,” sê die onderwyseres geïrriteerd. “Jis, Miss.” Jorrie sluk sy lag en maak of hy werk. Trompie is diep gekrenk. Hy het geweet hy hoop verniet dat Jorrie bleek sal word, maar hy het darem nie verwag die ou sal uitbars van die lag nie! Dit wys Jorrie is glad nie bang nie – en dít laat Trompie nou nog meer skrikkerig voel. Maar toemaar, dink Trompie en kners op sy tande en bal sy vuiste, die Vrystater gaan nog vir die vernedering van daardie simpel gelag ook betaal. Baie kinders wonder wat Trompie geskryf het wat so snaaks was. Ander besef weer dit is omdat Jorrie Trompie se uitdaging so belaglik vind, dat hy sy lag nie kon inhou nie. Dit wys net hoe seker is hy van sy vermoë om enige geveg te wen. Die klas werk aan hul opstelle, maar loer kort-kort na Jorrie. Hulle sien hy is nou besig om op ’n los vel papier te skryf. Dis seker die antwoord op Trompie se brief. Wanneer Jorrie klaar is, vou hy die papier op en gee dit oor sy skouer aan. “Gee vir Trompie,” fluister hy vir die seun agter hom. Die brief trek vinnig deur die klas terwyl die niksvermoedende onderwyseres sit en boeke nasien.
Trompie het die brief. Hy maak dit oop en lees vinnig:
Trompie
Ek skrik nie vir ’n askoek soos jy nie!
Sien jou vanmiddag drie–uur by die dam in die kloof. Moenie bang word en wegbly nie!
Bring jou doodskis saam.
Jorrie
Trompie sluk swaar. Dit sal hom nie verbaas as hý nou bleek is nie. “La’k sien,” sê Rooie en Trompie gee die brief vir hom. Rooie lees dit en glimlag tevrede. So ja, die uitdaging is aanvaar. Vanmiddag gaan die poppe dans! Rooie gee die brief vir Dawie en Blikkies aan, en die twee lees dit ook vinnig. Hulle is hoog in hul skik. Trompie gaan daardie boelie goed op sy plek sit! Die Boksombende het die wêreld se vertroue in hul Kaptein. Trompie skeur die brief ingedagte in klein stukkies. Hy gooi die flenters in die oop laai onder sy bank. Noudat hy dit gedoen het, voel hy vreemd genoeg beter. Die koeël is deur die kerk. Hy móét nou baklei – daar is geen ander uitweg nie. Hy berus hom nou in hierdie feit. Trompie beskou die hele affêre as iets onaangenaams, maar iets wat nogtans
gedoen moet word – en gou ook – sodat dit agter die rug kan kom. Pouse sê Dawie vir een van die seuns in hul klas: “Vanmiddag drie-uur by die dam in die kloof,” en dit versprei soos ’n veldbrand deur die skool. Binne vyf minute hoor feitlik die hele skool die refrein – “Vanmiddag drie-uur by die dam in die kloof,” – en die leerders weet wat dit beteken. Dit lyk of almal daar gaan wees. Selfs die meisies bespreek die saak en beraam planne om die geveg op ’n afstand dop te hou. Trompie gedra hom die hele oggend stil en voorbeeldig. Hy praat glad nie saam met die opgewonde kinders wat die geveg so driftig bespreek nie. Hy voel iemand wat aan so ’n groot geveg gaan deelneem, moet hom voor die tyd nederig, stil en stigtelik gedra. Hy is koel, kalm en besadig – net sy hart bons geweldig en hy moet sy kniekoppe styf teen mekaar druk sodat die ander nie kan hoor hoe hulle klap nie. Wanneer die laaste klok van die skooldag lui, is die kinders vinnig huis toe. Hulle wil almal teen drie-uur by die dam in die kloof wees. Ná ete gaan Trompie in sy kamer op sy bed lê om ’n bietjie te rus. Hy het net gelê, toe Rooie, Blikkies en Dawie daar opdaag. Hulle kom om sy spiere los te kry vir die groot geveg. Trompie sit op die punt van die bed. Rooie kry sy regterbeen beet en vryf die kuit. Blikkies doen dieselfde met die linkerbeen. Dawie masseer Trompie se skouers. Trompie se drie manskappe praat opgewonde en aanhoudend. Elkeen gee vir hom raad oor hoe hy te werk moet gaan om Jorrie sommer binne die eerste minuut katswink te slaan. Maar die Grootkaptein luister nie. Hy het sy taktiek mos al klaar fyn uitgewerk. Hy weet hy is vinniger as die swaarder Jorrie, al kan hy nie so hard soos die Vrystater slaan nie. Hy wat Trompie is, gaan ligvoets voor hom ronddans... en uit sy pad bly... totdat... totdat Jorrie moeg is – en dan gaan hy inspring en hom takel. Trompie kyk kort-kort na die wekker op sy tafel. Die wysers loop vandag ekstra vinnig. Dit is amper tyd om kloof toe te gaan.
Die seuns het Trompie klaar gemasseer. “Ek dra jou baadjie,” sê Rooie. “Ek vat nie ’n baadjie nie.” “Ek staan in jou hoek, Trompie,” sê Blikkies sag en hou vir ’n oomblik op met kou. “Daar’s nie ’n bokskryt nie,” sê Trompie, “so daar’s nie ’n hoek nie.” Trompie glimlag effens. Dié manne van hom darem! Hulle wil so graag iets doen om te wys hoe hulle by hom staan. “Ek... ek hou duim vas,” sê Dawie, en sy oog (nie die toegeswelde blou een nie) glinster. Hy wys hoe hy albei sy duime styf in sy vuiste toeknyp. Trompie kyk na die wekker. Dit is twintig voor drie. “Komaan,” sê hy en is vies vir homself toe hy hoor sy stem bewe effens. Dan voeg hy harder by: “Laat ons weg wees.” Die vier vriende klim deur die venster en stap met die tuinpaadjie af hekkie toe. Hulle loop agter mekaar aan omdat die paadjie nou is. Trompie loop voor. Sy hande is diep in sy broeksakke, sy pet sit skeef op sy kop, sy kouse lê op sy skoene en sy hemp hang agter by sy broek uit. Net agter Trompie kom Rooie. Hy is soos gewoonlik kaalvoet. Hy hou van die gevoel van die grys klippies op die tuinpaadjie. Dit kielie hom. Agter Rooie stap Blikkies. Hy buk elke slag so in die stap en gryp na polletjies gras om ’n ordentlike grashalmpie te kry om te kou. Dawie loop heel agter. Sy hande is in sy baadjiesakke. Net sy vriende weet hoekom. Hy hou die hele tyd styf duim vas vir Trompie. Naby die hekkie hoor die seuns iemand groet en kyk op. Katrien leun oor die tuinmuur. “Sterkte,” sê sy. Haar stem is sag en haar oë glinster.
Trompie knik met sy kop, en sê ernstig soos hy voel dit ’n groot vegter betaam: “Dankie, Katrien.” Dan stap die seuns weer verder, elkeen besig met sy eie gedagtes. Toe hulle weg is, vat Katrien ook die pad. Sy gaan twee van haar vriendinne haal om saam met haar kloof toe te gaan. Hulle gaan die geveg op ’n afstand dophou. Dit is ’n vry land, so die seuns kan hulle nie daar wegjaag nie. Die dam behoort mos nie aan hulle nie. Katrien hoop van harte Trompie gaan vir Jorrie die boelie op sy plek sit. Maar al doen hy dit ook nie, maak dit nie saak nie. Sy sal hom nog steeds as ’n held beskou. Trompie is die eerste en enigste seun hier op Kwaggaberg wat die moed het om daardie vent aan te durf! By die dam is daar al klaar ’n swetterjoel kinders, en nog baie kom van alle kante af aangestroom. Die nare eksamen lê nog voor, maar hulle is almal in ’n vakansiestemming. Vanmiddag gaan die poppe dans! Trompie, Kwaggaberg se kampioen-bokser, kom te staan teen Jorrie Jordaan, wat amper elke kind op ’n dorpie in die Vrystaat platgeslaan het! Dit gaan baie beter as die beste cowboy-fliek wees. Feitlik almal gaan vir Trompie skree. Jorrie is te vol van homself en hulle sal ook nie gou vergeet wat hy aan Dawie gedoen het nie. Die seuns sit en bespreek die geveg op die groot grasperk naby die damwal. ’n Hele paar meisies dwaal ’n entjie van die dam af en hou die seuns dop. Wanneer Trompie en sy drie manskappe aankom, is Jorrie en sy trawante van die koshuis al daar. “Trompie!” skree almal opgewonde toe hulle hom met die paadjie langs deur die veld sien aangestap kom. Hy loop fronsend na graspolle en skop. “Dons hom goed op, Trompie!” skree ’n paar seuns, maar kyk dan vinnig na Jorrie en koes weg. Hulle wil nie hê hy moet hulle herken en weet dit was hulle wat dit geskree het nie, anders dons hy húlle miskien op! Trompie stap reguit na Jorrie toe. Hy lyk koel en kalm. Hy is bly die kinders wat nou almal naderstaan, kan nie hoor hoe sy hart klop nie. Rooie, Blikkies en
Dawie is langs hom. Jorrie wag Trompie met ’n grynslag in. Omtrent twee tree voor hom gaan staan Trompie stil. “Het jy jou doodskis saamgebring, askoek?” vra Jorrie. Hy en sy trawante skater soos hulle lag. Die ander kinders is almal stil. Die Boksombende se Grootkaptein lyk bleek. Hulle kry hom jammer. Trompie voel dit is gepas om nou, voor die groot geveg begin, ’n toespraak af te steek. Hy wil sy sê eers sê voor hulle mekaar takel. “Jorrie,” begin hy met ’n bewerige stem. Dan hoes hy, maak keel skoon en begin weer: “Jorrie, ek wil net iets sê...” “Nou sê en kry klaar dat ek jou kan pap slaan!” Jorrie staan met gebalde vuiste. Trompie het nou beheer oor sy stem en val weg. “Toe jy hier aankom, het ons almal gedink hier’s ’n groot, sterk ou wat baie vir ons skool se rugby gaan beteken. Maar toe leer ons jou ken, en ons vind uit jy’s sommer net ’n wintie en ’n boelie.” Trompie druk sy wysvinger amper onder Jorrie se neus en sê: “’n Wintie en ’n boelie... in hoofletters!” ’n Hele klomp kinders skree: “Mooi so, Trompie! Sê hom!” Jorrie lyk verbaas. Hy het nie verwag dat Trompie so astrant sou wees nie. Hy begin vir die eerste keer effens twyfel. Daar is ’n frons op sy voorkop. Het hy dié ou wat so gewild hier op Kwaggaberg is, miskien verkeerd opgesom? “En toe ons sien jy gaan niks vir ons skool se rugby beteken nie, het ons jou vermy,” gaan Trompie doodluiters voort (niemand kan mos hoor hoe sy hart klop nie, en hy hoop maar net hulle sien nie sy kniekoppe bewe nie). “Maar jy het dit verkeerd verstaan en gedink ons is bang vir jou, soos die ouens daar in die Vrystaat. En toe begin jy hier ook met jou nonsens en knou die kleiner outjies af. En toe,” sê Trompie en tik-tik met sy wysvinger op Jorrie se bors, “begin jy selfs met my ook – en dit is waar jy ’n groot fout gemaak het.”
Dit is so stil dat ’n mens ’n speld kan hoor val. Die meisies is ’n hele ent van die seuns af weg, maar kan elke woord van Trompie duidelik hoor. Hulle glimlag almal en Katrien lyk baie trots. “Dis waar jy ’n baie groot fout gemaak het, Jorrie,” sê Trompie weer. “Jy het my eendag met ’n kettie in die sangklas agter die oor geskiet. En ’n ander keer het jy my gepootjie. En toe’t jy my fiets se wiele afgeblaas. En toe’t jy daai simpel storie versprei dat Orgina my meisie is. Maar dit was alles nog niks nie,” sê Trompie en sy wysvinger speel weer onder Jorrie se neus, “want toe kom die ding wat my laat besef het dis tyd dat ek jou ’n les leer. ’n Les wat jy tot in lengte van dae sal onthou!” Trompie hou só van die frase “in lengte van dae” dat hy voel hy moet dit weer gebruik. Hy is nou behoorlik op dreef met sy toespraak. “Ja, jou boelie van die Vrystaat, jy moet ’n les geleer word wat jy tot in lengte van dae sal onthou. Ek het só besluit ná jy met Dawie rondgemors het. Jy het ’n arme, onskuldige ou wat baie kleiner as jy is, met die vuis geslaan. Hy kan glad nie uit sy een oog sien nie – en jy moet daarvoor boet!” Trompie wens hy kan nog langer praat om die geveg langer uit te stel, maar hy weet nie wat om verder te sê nie. Hy sluit af met: “En nou gaan ek jou ’n les leer – ’n les wat jy tot in lengte van dae nooit sal vergeet nie.” So ja, Trompie is tevrede. Hy het nou sy sê gesê. Jorrie kyk verbaas na hom. Trompie kan nogal vir jou goed praat, hoor. Hy hoop maar net die Kwaggaberger baklei nie ook so goed soos hy “spiets” nie! “Het jy klaar gegorrel?” bulder Jorrie. “Ja,” sê Trompie. “Nou kom, laat ek jou moker dat jy jou ouma vir ’n eendvoël aansien.” Trompie wil eers sê hy het nie ’n ouma nie, en kán haar daarom nie vir ’n eendvoël aansien nie, maar besluit dan die tyd van praat is verby. Hulle moet nou oorgaan tot aksie. Maar dit is moeilik. Hy kan nie nou sommer net ligvoets begin ronddans nie. Daar is mos ’n sekere prosedure wat gevolg moet word, veral met hierdie soort
geveg – ’n geveg wat tot die bitter einde gaan aanhou. Trompie stap vorentoe, tik met sy vuis teen Jorrie se gespierde arm en sê: “Daar’s jou kesj!” Die Vrystater laat nie op hom wag nie. Hy gee ook ’n tree vorentoe, boks Trompie se arm met sy groot, gebalde vuis en sê: “En daar’s jóú kesj!” Kwaggaberg se kinders staan die toneeltjie met groot oë en dophou. So ja, nou het die twee mekaar die kesj gegee. Trompie trek met sy ingeduikte skoenpunt ’n streep voor hom op die grond. Dit is die volgende stap. “Waag dit net om oor daai streep te trap,” sê hy vir Jorrie. Trompie haal sy pet af en gee dit vir Rooie. Jorrie ken die regte prosedure en vra die verwagte vraag: “Wat as ek daaroor trap?” Trompie beëindig die formaliteite nou streng volgens prosedure: “As jy oor die streep trap, moker ek jou!” So ja, sug die kinders. Alles het volgens die korrekte prosedure geskied – nou kan die geveg begin. Jorrie hou sy gebalde vuiste voor hom en trap oor die streep. “Nou toe, hier is ek!” sê hy. Trompie kyk net vlugtig of Jorrie behoorlik oor die streep getrap het, dan lig hy sý vuiste ook op. Die groot geveg – die geveg duisend – begin! Trompie begin liggies ronddans. Jorrie staan rotsvas en hou sy oë stip op sy trippelende teenstander. ’n Paar seuns begin lag. Dit is ’n snaakse toneeltjie: Trompie wat soos ’n
fladderende skoenlapper ronddans en Jorrie wat bewegingloos staan en sy kop net so effens draai soos hy Trompie dophou wanneer hy na die kante toe beweeg. Skielik besef Trompie hy is die een wat gaan moeg word en Jorrie nie. Hy dans aanhoudend in die rondte en Jorrie beweeg nie. Hy het nog nie een hou geslaan nie. Trompie besluit hy moet sy taktiek verander. Hy moet ook staan en wag dat tot Jorrie slaan. Trompie wil net gaan staan toe Jorrie bulder: “Hou op ronddans soos ’n meisie! Staan stil sodat ek jou kan bykom!” Trompie besluit nou om dit nie te doen nie. Jorrie is besig om die joos in te raak en dis presies wat Trompie wil hê. Jorrie moet storm en gate in die lug slaan. Dít sal hom moeg maak. “Hoekom slaan jy nie, jou papbroek?” tart Trompie die Vrystater uit. Dit het die gewenste uitwerking. Jorrie storm met ’n gebrul vorentoe en slaan. Hy wil die dansende vuurvliegie hier voor hom verpletter. Jorrie se vuiste fluit deur die lug. Die kinders skree. As hierdie houe Trompie tref, sal dit klaarpraat met hom wees. Hy sal binnekort bekend staan as “oorlede Trompie”. Maar die houe is almal mis. Trompie retireer en koes liggies elke keer wanneer Jorrie slaan. Die Vrystater hou aan gate in die lug slaan, maar Trompie hou aan om die houe te ontwyk. Wanneer Jorrie uiteindelik ophou slaan en tot stilstand kom, hyg hy na asem. Skielik skiet Trompie soos blits vorentoe en tref hom met ’n pragtige reguit linker vol in die gesig. “Eina!” skree Jorrie. Dit was ’n geniepsige hou wat seergemaak het. Hy bestook die Kwaggaberger weer met ’n sarsie, maar Trompie dans vinnig buite bereik van sy swaaiende houe. “Mooi so, Trompie!” skree die kinders. “Wys hom, Trompie!” styg Dawie se skril stem bo die ander s’n uit. En Trompie wys hom! Jorrie blaas nou hard. Dit lyk of die teorie dat ’n mens
moeër word wanneer jy mis slaan as wanneer jy iemand tref, heeltemal reg is. Elke keer as Jorrie sy aanval staak om ’n bietjie blaaskans te kry, vlieg Trompie soos blits in, piets hom een of twee keer en dans dan weer buite bereik van sy gevaarlike vuiste. Trompie loods nog nie sy aanval nie. Hy wag dat Jorrie nóg moeër moet word. Ná ’n rukkie begin Jorrie se neus bloei en hy hyg al hoe meer na asem. Trompie besluit die tyd het aangebreek om nou tot die eerste gedeelte van sy aanvalsplan oor te gaan. Hy moet Jorrie in die maag moker om hom nog verder uit te put. Trompie buk laag en skiet vinnig in – maar dit is net die verkeerde oomblik om so iets te doen! Jorrie gee terselfdertyd ’n geweldige regterhou en Trompie vlieg reguit daarin. Hy sien net sterretjies. Hy struikel en val. Die hou het hom só onverwags getref dat hy heeltemal deur die wind is. Daar is ’n doodse stilte. Trompie lê op die grond. Met ’n grynslag op sy bakkies staan Jorrie nou weer vol selfvertroue oor hom en skree: “Staan op, jou askoek! Jy wou my ’n les geleer het, maar nou leer ek jóú een.” Trompie skud sy kop om van die sterretjies ontslae te raak. “Jissie,” sê hy, nog steeds half duiselig. Hy skud en kners op sy tande. Sy kakebeen voel seer waar Jorrie se vuis hom getref het. Hy moenie weer so agtelosig wees nie. “Staan op!” skree Jorrie weer. “Of het jy genoeg gehad? Gee jy oor?” “Nooit!” Trompie spring vinnig op. Hy word hard toegejuig deur die seuns wat in die kring om die twee vegters staan. Die meisies juig van ’n entjie verder af ook – veral Katrien. Trompie begin weer ronddans. Hy moet nou versigtiger wees. Jorrie skiet vorentoe. Hy gaan hierdie vermetele ventjie nou verpletter! Die Vrystater slaan woes, maar Trompie bly buite bereik van sy vuiste. Trompie sien ’n gaping, duik rats onder Jorrie se swaaiende arms in en tref hom met een, twee, drie harde houe op die krop van sy maag. Die groot kêrel kreun en Trompie beweeg weer vinnig weg. Jorrie staan nou en blaas. Daardie houe in sy maag het seergemaak. Trompie
klim weer soos blits in en voor Jorrie nog kan slaan om hom af te weer, plant hy nóg twee harde houe in die Vrystater se maag. Dan dans hy weer vinnig weg. Jorrie snak na sy asem. “Vlieg weer in, Trompie!” skree Blikkies opgewonde. En dit is presies wat Trompie doen. Die houe reën nou op die verbysterde boelie neer. Voor Jorrie kan terugslaan, is Trompie al weer buite bereik van hom af. Jorrie skud sy kop. Hy verstaan hierdie soort boksery nie. Hy is daaraan gewoond om woes te baklei – om sommer blindweg te staan en slaan. Maar hy kry hierdie Trompie net nie onder skoot nie en hy word al hoe moeër! Jorrie beweeg weer vorentoe met sy vuiste gereed. Hy wag dat Trompie hom weer moet invlieg sodat hy die Kwaggaberger weer op die kakebeen kan klits. Trompie voel Jorrie se plan instinktief aan en uitoorlê hom uitstekend. Hy maak of hy vinnig inskiet en Jorrie trek weer los – maar dis mis! Hy is effens van balans af en dan vlieg Trompie eers regtig in. Die houe reën op Jorrie neer. Trompie slaan hard en vinnig. Jorrie slaan terug. Trompie vergeet nou skoon van sy taktiek. Hy staan botstil en wissel verbete houe met Jorrie. Die kinders skree histeries van opgewondenheid. Dit is ’n geveg duisend! Nie een van die twee vegters gee op nie. ’n Mens sien net ’n warrelwind van houe. Maar die twee kan nie vir ewig só aanhou nie. Een moet terugval – en dis Jorrie! Hy is nie so fiks soos Trompie nie en kan nie langer byhou nie. Jorrie hou sy hande nie meer so hoog soos eers nie. Hy laat hulle sak. Hy lyk baie moeër as Trompie. Daardie grynslag is ook nie meer op sy gesig nie. Hy word nou skrikkerig. Hy het nog nooit vantevore iemand teëgekom wat soos ’n verwoestende orkaan aanval nie. Jorrie begin nou wonder oor die uitslag van die geveg en retireer wanneer Trompie skielik weer gebukkend vorentoe beweeg. Trompie kom effens op sy tone. “Hier kom dit, ouens!” sê Dawie hees. Hulle ken mos vir Trompie. As hy so op
sy tone kom, gaan hy sy opponent lelik invlieg. En dan kom dit ook! Trompie skiet soos ’n pyl uit ’n boog op Jorrie af. Hy slaan vinnig en hard. Jorrie moker woes terug, maar sy houe is nie naastenby so sekuur soos Trompie s’n nie. Ná hierdie sarsie is dit weer eens Jorrie wat moet retireer. Trompie gee hom nou nie blaaskans nie. Hy bly op die aanval en mik sy houe nog steeds net na Jorrie se maag. Trompie kry ’n paar houe teen sy kop, maar hy ignoreer dit. Hy peper Jorrie in sy maag asof dit ’n slaansak is – en dan sak die Vrystater kreunend inmekaar! “Trompie! Trompie!” skree sy ondersteuners in die kring. Jorrie se trawante is tjoepstil. Jorrie het miskien almal in daardie Vrystaatse skool gelooi, maar hy gaan sowaar vandag hier op Kwaggaberg ’n loesing kry! “Staan op, Jorrie!” sê Trompie ferm. Sy hart klop nie meer bang nie en sy kniekoppe bewe nie meer nie. Sy kakebeen is seer en sy neus bloei en hy voel moeg, maar nie naastenby so gedaan soos Jorrie nie! Trompie is nou vol selfvertroue. Jorrie moet eers op sy knieë rus voor hy kan opkom. Hy haal hard en vinnig asem. Trompie besluit om Jorrie nog moeër te maak voordat hy weer aanval. Hy maak nou elke keer asof hy gaan inskiet en dan slaan Jorrie mis. Al die misslanery put hom net nog meer uit. Dan kom Trompie skielik weer op sy tone. “Hier kom dit weer, ouens!” roep Dawie skril. En dan gebeur dit ook. Trompie val wild aan. Dit moet die laaste sarsie wees. Die houe reën onophoudelik op Jorrie neer. Hy is heeltemal verbysterd en slaan net floutjies terug. Jorrie retireer, maar Trompie bly op hom. Hy gee hom nie ’n blaaskans nie. Ten spyte van al sy kastige gevegte het die boelie nog nooit in sy lewe so ’n tornado van ’n vegter teëgekom nie!
Die toeskouers juig en skree. Trompie se vuiste swaai nou nie meer so woes nie. Hy plant sy houe met ’n plan en elkeen van hulle maak seer. Jorrie verdedig feitlik glad nie meer nie. Hy probeer floutjies om die aanval af te weer, maar steier al hoe meer onder die verbete aanslag. Trompie voel jammer vir Jorrie, maar hou aan slaan. Hy gaan nie ophou voor die boelie omkap nie. Dit moet mos ’n les wees wat Jorrie nooit sal vergeet nie. Hy moet hom nie nou genadig wees nie. Dan begin dink Trompie aan alles wat Jorrie gedoen het. “Vat so!” sê hy en plant ’n harde hou in die Vrystater se maag. “Dis vir die keer toe jy my agter die oor geskiet het.” Trompie dans om hom rond. “Vat so!” sê Trompie weer en tref Jorrie se oog. “Dis vir die keer toe jy my fiets se bande afgeblaas het.” Trompie dans ’n bietjie weg van die flou houtjies wat Jorrie steierend na hom mik. Hy wil in ’n beter posisie kom vir sy volgende hou. Hy trek los en tref Jorrie met ’n geniepsige hou op die neus. “Dis vir die keer toe jy my gepootjie het!” Dan plant hy ’n harde hou in die groot seun se maag. “En dis vir die leuen wat jy vertel het van my wat ’n meisie het.” Trompie trippel weer so effens. Dit lyk of Jorrie nou enige oomblik gaan omkantel. Nou vir die laaste “Vat so!” Dit moet die einde van hierdie geveg wees. Trompie vlieg in. “Vat so!” sê hy en plant ’n mokerhou op Jorrie se ken. “Dis vir jou wat Dawie so geboelie het.” Jorrie steier terug en val. Vir ’n oomblik is daar ’n doodse stilte, dan kom Blikkies se lui stem: “Die ou se gô is nou propperlies uit.” “Mooi so, Trompie!” skree ’n klomp kinders. Die geveg is oor. Jorrie het duidelik genoeg gehad. Trompie is verlig. Alles het goed afgeloop. Nou moet hy net wys hy het ’n groot gees.
Hy stap na Jorrie toe, steek sy hand na hom uit en help hom op. “Genoeg gehad?” vra Trompie. Jorrie knik. Ja-nee, dit was beslis genoeg. “Het jy nou jou les geleer?” Jorrie kyk na Trompie. Hy wonder of die Kwaggaberger hom weer gaan takel as hy sê hy het nog nie sy les geleer nie, maar besluit om liewer nie ’n kans te waag nie. Dit lyk of Trompie hom sowaar weer te lyf sal gaan. Die boelie knik vinnig en verseker Trompie hy het wel sy les geleer. “Ek is bereid om van die verlede te vergeet en jou as my vriend te beskou,” sê Trompie en hou sy seer kakebeen vas. “Wat sê jy?” Trompie hou sy hand voor hom uit om met Jorrie blad te skud. Die Vrystater aarsel net ’n oomblik, dan vat hy die hand. Hy glimlag skeef en loer uit twee geswelde oë na Trompie. Jorrie skud blad met Trompie en sê sag: “Jy het my ’n les geleer, Trompie. Ons is van nou af vriende.” Om vir almal te wys hulle het vrede gemaak, stap die twee hand om die nek tussen die klomp juigende kinders deur. Almal is bly dinge het só beskaafd ten einde geloop. Trompie-hulle neem Jorrie na Rooie se buitekamer en dokter hom eers voor hy terug koshuis toe gaan. Die Boksombende se Grootkaptein word darem ook so ’n bietjie gedokter.
5
Trompie trek vir Rooie ’n streep
En só het die geveg duisend toe gekom en gegaan. Trompie is die hele skool se held. Omdat hy glo hy as oorwinnaar moet beskeie wees, sê hy elke keer as iemand hom gelukwens met ’n skouerophaling: “Ag wat, dit was sommer niks.” Rooie, Blikkies en Dawie is geweldig trots op Trompie, en draai gedurig om hom. Hy is hul vriend en Grootkaptein. Almal moet dit goed verstaan. En Jorrie? Dit lyk of die loesing hom sowaar ’n les geleer het. Hy los sy streke om ander af te knou en is baie vriendeliker. By die skool is hy gedurig naby Trompie. Die ou word, soos Blikkies sê, nou eers behoorlik mens. Die kinders begin sien Jorrie is eintlik baie gaaf. Die dae vlieg vinnig verby en die eksamen kom nader. Selfs Trompie begin nou bekommerd raak. Voer hy sy teorie dat ’n mens net voor ’n eksamen eers moet begin leer nie miskien te ver nie? Sê nou maar hy begin te laat leer, en kan nie al die goed in sy kop kry nie? Trompie wil liewer nie eers aan so iets dink nie. Daar is darem nog ’n hele paar dae tyd. Een middag kom Dawie – sy blouoog het nou ’n effense groen skynsel – by die Toeriens se huis aan. Dit is al laat, want hy het die hele middag gesit en leer. Trompie, Rooie en Blikkies het nie geleer nie. Hulle het in Trompie-hulle se agterplaas gespeel. Hulle het mekaar uit-gedaag met verspring, hoogspring, gewigstoot en hardloop. Die drie rus nou en sit vas oor wie die algehele wenner is. Trompie het die verspring gewen, Rooie die gewigstoot en Blikkies die hoogspring. Met die
naelloop na die garage toe het Trompie en Blikkies feitlik gelyktydig aan die muur geraak. Rooie was so ’n meter agter hulle. Toe het die stryery natuurlik begin. Trompie sê hy het gesien sy hand raak netnet voor Blikkies s’n aan die muur en Blikkies sê hy het weer gesien sý hand raak net-net voor Trompie s’n aan die muur. Rooie sê al wat hy gesien het, was die twee ouens se rûe en hy wil nie by hul argument betrokke raak nie. Trompie en Blikkies het nou die stadium bereik waar hulle op mekaar gil. Trompie skree: “Ek het gewen!” “Is nie!” skree Blikkies terug. “Ek het!” “Nee, ek het!” gil Trompie. “Nee, ek het!” gil Blikkies. Hulle glo vas die een wat die hardste skree, gaan die argument wen. Dit is in hierdie stadium dat Dawie daar aangestap kom. Rooie lê en bekyk die stryery op die gras en Dawie kom sit by hom. Trompie en Blikkies hoor nie eens hoe hy hulle groet nie. Maar dan haal Dawie iets uit sy sak en waai dit in die lug. “Haai, ouens, kyk wat het ek!” Dit is ’n R20 noot. Trompie en Blikkies hou sommer dadelik op met baklei. Geld is ’n skaars artikel by die Boksombende en Dawie het nou sowaar twintig rand. Hulle kom vriendelik by hom en Rooie sit. “Waar kry jy soveel geld?” vra Trompie met ’n breë glimlag en sit sy arm gemoedelik om Dawie se skouers. “My niggie, Isabel, het vanoggend hier aangekom. Sy gaan vir ’n ruk by ons kuier. Sy het dit vir my gegee.” “Sjoe, sy’s darem wonderlik,” sê Blikkies en spoeg die grashalmpie waaraan hy gekou het met ’n boog uit. Hy gaan mos sommer nou-nou kougom kou. Trompie en Rooie vertel ook vir Dawie hoe ’n wonderlike niggie hy het, al ken
hulle haar glad nie, en al het hulle haar nog nooit gesien nie. Iemand wat soveel geld sommer net so weggee, moet mos wonderlik wees! “Hoe oud is sy?” vra Blikkies nuuskierig. “Sy’s twintig en baie gaaf,” sê Dawie. Sy drie vriende knik kop. Ja-nee, sy ís baie gaaf – dis nou maar wors. Twintig rand is ’n spul geld. Hulle werk al klaar uit hoeveel lekkers hulle elkeen gaan kry – dis nou as Dawie bereid sal wees om die hele twintig rand te spandeer. Trompie dink aan die toekoms en vra: “Het dié niggie van jou baie geld, Dawie?” “Seker, want sy’t vir my die geld gegee sonder dat ek enige werk of iets daarvoor moes doen.” “En hoe lank gaan sy hier kuier?” wil Trompie verder weet. “’n Maand,” antwoord Dawie. Dis goeie nuus. Die Boksombende se oë blink. ’n Maand is lank. Dawie sal waarskynlik nóg geld kry – en hulle dan indirek ook. “Kom ons gaan stap ’n entjie,” sê Trompie skielik vriendelik en tik Dawie lig op die skouer. Hy staan op en wink vir Dawie. Blikkies en Rooie dink dit is ’n skitterende voorstel. Hulle staan ook op. Dawie bly egter sit. Hy kyk hulle agterdogtig aan. “Waarheen wil julle stap?” vra hy. “Ek het nou net hier aangekom. Kom ons gesels eers.” “Ons kan praat terwyl ons loop,” sê Trompie. “Ons stap sommer so ’n entjie met die hoofstraat af.” “Reguit na oom Stavrinos se kafee toe,” sê Blikkies. Daar moenie enige misverstand wees nie. Dawie moet weet waarheen hulle stap en wat hulle gaan doen wanneer hulle daar aankom.
Dawie hou die R20 noot styf in sy hand vas. Hy weet sy vriende wil kafee toe stap omdat hy geld het. Hulle wil gaan lekkers koop. “Ek het die geld nodig,” sê hy vinnig. “Ek spaar vir ’n duur, nuwe pen.” Die drie kyk hom verbaas aan. “Wat gaan jy met ’n duur, nuwe pen maak?” vra Rooie. “Ek gaan daarmee skryf, wat anders?” “Ek verstaan dit nie,” sê Trompie en skud sy kop. “’n Ou moet absoluut simpel wees as hy geld vir lekkers het, en hy wil dit spaar om ’n pen te koop.” Rooie en Blikkies klap hulle tonge en kyk na Dawie asof hulle hom jammer kry, asof hy regtig nie lekker in sy kop is nie. Dawie voel ongemaklik, maar hou die geld styf in sy hand vas. Hy is nou spyt hy was so oorhaastig om sy vriende van die geld te vertel. Hy moes geweet het hulle sou net aan een ding dink – lekkers! En nou gaan hulle hom nie met rus laat voor hy sy geld met hulle deel nie. Blikkies vertel van die heerlike nuwe soort kougom wat in die Griek se kafee is. Trompie se oë is groot en hy lek sy lippe af terwyl hy praat van die nuwe besending toffies. Rooie vertel vir Dawie ’n pen is maar net ’n pen – hoekom nou ’n duur een koop as mens met ’n goedkoop weggooi-een kan klaarkom? Dawie sug. Hy sal die twintig rand nie kan bêre om eendag, wanneer hy genoeg gespaar het, ’n duur pen te koop nie. Sy vriende gaan hom nooit met rus laat nie. En hy moet erken – hy is ook nogal lus vir lekkers! Trompie begin net wonder of die tyd nie nou aangebreek het om Dawie te herinner aan hoe hy wat Trompie is, Jorrie ter wille van hom opgedons het nie, toe Dawie sê: “Oukei, kom ons gly.” “Kafee toe?” vra Blikkies. “Ja.” “Om lekkers te koop?” wil Rooie weet.
“Ja.” “Met al die geld?” vra Trompie. Dawie aarsel net ’n oomblik, dan sug hy effens en sê weer: “Ja.” Sy drie glimlaggende vriende slaan hom hard op die rug om hom geluk te wens met sy wyse besluit. “Jy’s ’n pêl duisend, Dawie!” sê Trompie en sy mond water terwyl hy aan toffies dink. Die Boksombende stap opgeruimd met die hoofstraat af na Stavrinos se kafee toe. Dawie is nie heeltemal so opgewonde soos die ander drie nie, maar hy voel darem beter toe hulle hom verseker dat wanneer een van hulle geld kry, hy dit ook op lekkers vir hom en sy vriende sal uitgee. Die drie kan dit met rein en skoon gewetes belowe. Hul sakgeld is al vir amper twee maande vooruit opgebruik en daar is nie juis enige kans dat een van hulle binnekort ekstra geld in die hande sal kry nie. In die kafee stry die vier seuns oor wat presies hulle moet koop. Dawie se argument dat dit per slot van rekening sy geld is, en dat hy daarom kan besluit wat om te koop, val op dowe ore. Dawie wil sjokolade hê, Blikkies wil kougom koop, Rooie is lus vir suiglekkers en Trompie vir toffies. Nie een kan die ander oortuig nie en dan besluit hulle maar om die geld te verdeel en elkeen te koop wat hy wil. Dawie wil meer as net ’n kwart van die geld hê. Trompie stel voor dat hulle oor die saak stem. Trompie, Rooie en Blikkies wen natuurlik met ’n meerderheid van drie stemme teen een. Dawie moet maar tevrede wees met vyf rand. Elkeen koop sy gunstelinglekkers en hulle loop weer terug na Rooie se buitekamer toe. Daar sit hulle en smul. Blikkies kou met ’n salige uitdrukking op sy gesig. Hy gaan nou dae lank nie halmpies uit graspolle hoef te pluk nie.
Dawie se sjokolade en Rooie se suiglekkers is eerste op, want jy kan nie veel met vyf rand koop nie. Nou wil hulle van Trompie se toffies en Blikkies se kougom hê, maar hulle vra verniet. Trompie wil nog van sy lekkergoed oorhou vir vanaand. Rooie hou so aan kerm vir ’n toffie, dat Trompie hom later vervies en huis toe gaan. Dié aand besluit Trompie om ’n bietjie te begin leer terwyl hy aan sy soveelste toffie kou. Hy is net besig om Boyle se Wet waarvan almal so praat deur te lees, toe hy skielik aan iets dink. Hy stoot die natuurwetenskaphandboek voor hom weg. Boyle se Wet (waarvan hy tog in elk geval nie kop of stert kan uitmaak nie) is nou vergete. Trompie dink aan Rooie wat so baie van toffies hou. Hy begin glimlag en dan lag hy hardop. Dis ’n skitterende plan! Hulle gaan hulle siek lag as Rooie sy mond wil oopmaak en hy kan nie, want sy kakebene is aan mekaar vasgemessel. Hy gaan Rooie ’n poets bak wat die ou nooit sal vergeet nie! Trompie loop vinnig met sy laaste paar toffies by die kamer uit. Sy ouers is by ’n vergadering, en hy is alleen by die huis. Niemand sal hom pla nie. Hy gaan haal sy pa se groot pot bruin gom in die garage. In die pot is daar ’n kwas wat al hard gekoek is. Trompie loop kombuis toe met die pot gom in die een hand en die toffies in die ander. Hy gaan nou ’n eksperiment doen. Al ken ’n ou nie Boyle se Wet nie, dink hy, is dit mos nie te sê ’n ou weet niks van natuurwetenskap en sulke klas goeters af nie. Trompie skakel die oond aan en haal ’n bakplaat uit. Hy glimlag tevrede en sit ’n paar toffies daarop neer. Hy hou darem ook twee uit sodat hy dit kan eet wanneer hy vir Rooie van die gedokterde toffies aanbied. Of miskien sal hy vir sy vriend eers een van die gewones gee. Dan sal hy nie onraad merk nie. Trompie roer die pot gom met die kwas. Dit het ’n taai, jellierige tekstuur. Dan gebruik hy ’n mes om die gom versigtig om elke toffie te smeer. So ja! Hy wag tot die oond warm is en sit die plaat met gomtoffies dan daarin. “Nou net so ’n paar minute wag,” sê hy hardop vir homself en was sy hande in
die lug. Dit gaan darem vir jou pret wees om Rooie se gesig te sien wanneer sy tande aan mekaar vassit en hy sy kake skielik nie kan oopkry nie! Trompie hoop maar net dit sal nie te erg wees nie. Hy wil Rooie nie dokter toe moet neem om sy mond weer oop te kry nie! Maar die kombinasie van gom en toffie kan darem sekerlik nie só erg wees nie – of kan dit? Trompie besluit om nie daaroor te wonder nie. ’n Paar minute later haal hy die bakplaat uit die oond. Die gom en toffie is nou ’n taai, bruin mengsel. Terwyl dit nog sag is, druk Trompie dit met die mes sodat dit presies lyk soos die twee toffies wat hy nog in sy sak het. Dan laat hy sy brousel afkoel. ’n Rukkie later is die gomtoffies hard en Trompie gaan sit die pot gom terug in die garage voor hy weer kamer toe loop. Wanneer hy later gaan slaap, lê die gomtoffies op die tafel voor sy bed. Die twee regte toffies lê gereed in ’n bruin papiersak. Trompie glimlag heerlik wanneer hy aan sy poets dink. As dit nie te erg is, en Rooie hoef nie dokter toe te gaan of so iets nie, kan hulle ander ouens by die skool dieselfde streep trek. Rooie sal dit dan mos ekstra baie geniet. Miskien kan Jorrie hul eerste slagoffer wees. Hy is deesdae ’n gawe ou en sal net lag dat hulle hom so ’n streep getrek net – dis nou natuurlik eers later, wanneer sy kake los is en hy weer kán lag. Die volgende oggend moet Trompie sy pa eers gou help om ’n pap wiel om te ruil en hy kom later as gewoonlik by die huis weg. Hy ry alleen skool toe en kom net mooi daar aan toe die klok lui. Trompie kry nie kans om vir Rooie van die toffies waarvan hy so baie hou te gee nie. In die klas is daar gedurende die eerste periode ook nie kans nie. Trompie se oë glinster ondeund by die gedagte aan hoe Rooie gaan kou en kou tot sy kakebene skielik vassit. Die tweede periode is geskiedenis by meneer Roux, oftewel Ou Goliat. Die kinders het hom hierdie bynaam gegee omdat hy so groot is, en so ’n bulderende stem het. Ou Goliat is ’n kwaai onderwyser en ook die skool se onderhoof. Almal is maar skrikkerig vir hom, en sy klasse is altyd besonder stil.
Trompie luister net so aandagtig soos die ander kinders na Ou Goliat. Die onderwyser is besig om die Franse Rewolusie te behandel. Later gee Trompie nie meer soveel aandag nie. Hy het die geskiedenis van die Franse hof en die roekelose howelinge, die gepeupel en Mirabeau, Dante, Rosseau, die valbyl en al daardie vervelige goed mos op laerskool al geleer. Hy ken dit. Trompie begin dink aan die gomtoffies in die papiersak wat hy onder sy bank gebêre het. Hy wens Ou Goliat se periode is al om. Hulle het hierna wiskunde by die nuwe onderwyser, meneer Harmse. Hy gaan dan seker vir hulle daardie onsinnige som verduidelik van die water wat uit twee krane inloop by die bad sonder ’n prop in. Trompie hoop hy gaan dán kans kry om vir Rooie ’n heerlike gedokterde toffie aan te bied. Maar hy hoef nie só lank te wag nie. Ou Goliat bulder skielik: “Dis vir eers genoeg. Ek gaan na die hoof se kantoor toe. Doen julle solank hersiening. Onthou, die eksamen begin volgende week.” Meneer Roux loop by die klaskamer uit. Almal sit stil en leer, want hulle is versigtig vir hom. Hy het mos die slegte gewoonte om stilletjies op sy tone terug klas toe te sluip. Hulle hoor hom gewoonlik eers wanneer hy die deur ooppluk en dié wat dit gewaag het om ’n bietjie te gesels, te staan en aangluur. En wee die een wat uit sy bank betrap word. Jy kry óf detensie, óf uitskryfwerk – of sommer albei! Die kinders is vandag ekstra stil omdat hulle besef die eksamen is om die draai. Trompie, Blikkies en Rooie is die enigstes wat nog steeds hou by Trompie se teorie dat as hulle nou al leer, hulle alles weer sal vergeet. Die stilsittery word te veel vir Trompie. Hy is seker Ou Goliat sal nie so gou terugkom nie. As hy na die hoof se kantoor toe gaan, bly hy mos gewoonlik ’n hele rukkie weg. Trompie wonder of hy nou vir Rooie van die gomtoffies sal gee. Ou Goliat sal nie vir die klas vrae vra wanneer hy nou terugkom nie, so hy sal nie agterkom Rooie kan nie sy mond oopmaak nie, al wil hy ook. En Rooie is mos nie ’n klikbek nie. Hy sal nie Ou Goliat se aandag probeer trek om vir hom te beduie hy kan nie sy kake oopkry nie. Hy sal maar net so met die vasgemesselde kakebene sit.
Trompie besluit om tot aksie oor te gaan. “Rooie,” fluister hy net vir ingeval Ou Goliat skielik by die deur inbars, “wil jy ’n toffie hê?” “Ja, ’seblief!” Rooie kan sy geluk nie glo nie. Trompie het die twee regte toffies vanoggend in sy kamer uit die papiersak gehaal, die gedokterdes onderin gesit en die regtes toe bo-op. Hy wil Rooie eers met ’n regte toffie lok en dán vir hom die ander gee. Hy vroetel nou onder sy bank in die papiersak en haal die twee regte toffies uit – of liewer, hy dink dit is die regtes! Hy gaan nou net op gevoel, maar hy kan nie ’n fout maak nie, want hulle lê mos heel bo. Trompie gee die kleiner toffie vir Rooie en sit die groter een onder sy bank langs die papiersak neer. Hy gaan dit pouse eet. Rooie sit die toffie vinnig in sy mond. Hy verskuif dit van die een kies na die ander om dit eers ’n bietjie sagter te kry. Dan begin hy kou. Die toffie trek en rem aan sy tande en kake, maar smaak heerlik. Hy kyk na Trompie en fluister: “Dis baie lekkerder as my suiglekkers.” Trompie glimlag selfvoldaan. Rooie gaan netnou ’n ander deuntjie sing. Sodra hy klaar is met die regte toffie wat hy so smaaklik sit en kou, gaan Trompie vir hom een van die gomtoffies in die papiersak aanbied – en dan gaan hy wat Trompie is hom sowaar byna doodlag! Trompie hou Rooie se bewegende kake dop. Toe hulle stadiger beweeg en dit lyk of Rooie nou meer suig as byt aan die klein stukkie wat nog in sy mond oor is, fluister Trompie: “Nog een, ou pêl?” “Ja, dankie.” Rooie wonder hoekom Trompie vandag so vrygewig is. Met ’n breë glimlag haal Trompie die papiersak onder die bank uit. Rooie kan maar self kies watter toffie hy wil hê. Trompie hou die papiersak vir hom oop om een te vat. Rooie loer in die papiersak en gryp die grootste toffie. Sy hand beweeg net mooi mond toe wanneer die deur oopgaan. Daar staan Ou Goliat! Hy kyk reguit na
Trompie en Rooie. Rooie se hand met die gomtoffie hang nou botstil in die lug, ’n paar sentimeter van sy mond af. As Ou Goliat die deur net ’n sekonde later oopgemaak het, was die toffie nou veilig in Rooie se kies. Trompie sit asof hy versteen is met die papiersak voor hom. Hy gee ’n verleë laggie en beweeg sy hand om die papiersak onder die bank in te glip. “Stop!” bulder Ou Goliat. Trompie stop. Rooie hoef nie te stop nie. Sy hand is nog steeds bewegingloos ’n paar sentimeter van sy mond af. Ou Goliat kom nader. Sy oë is stip op die twee gerig. Die klas hou die onderwyser en die verskrikte Trompie en Rooie gespanne dop. “Wat’s dit?” vra Ou Goliat en wys met ’n dik wysvinger na die papiersak. “Dis... dis...” Trompie probeer so vriendelik moontlik glimlag. “Dis sommer so ’n paar lekkers, Meneer weet.” “Gee hier!” Trompie gee die papiersak gedwee vir die onderwyser. Ou Goliat kyk daarin en sê smalend: “Hmm, nogal toffies, nè?” Trompie-hulle weet dit nie, maar Ou Goliat hou net so baie soos Trompie van toffies. Die onderwyser kyk kwaai na Rooie. Die gomtoffie is nog steeds bewegingloos ’n paar sentimeter van Rooie se mond af. “Gee hier!” bulder hy. “Ja, Meneer.” Rooie oorhandig die toffie vinnig. Ou Goliat gooi dit in die papiersak. “Kom spreek my pouse,” sê hy en draai om. “Dan sal ek julle straf.” Die onderwyser gaan sit voor by die tafel. Hy sit die papiersak op die tafel neer
en begin deur ’n geskiedenisboek blaai. Trompie en Rooie staar mismoedig na hul boeke. Hulle leer glad nie. Die boeke is oop, maar hulle sien nie wat daarin staan nie. Hulle sit en dink aan die groot verknorsing waarin hulle nou beland het. ’n Hele week se detensie! Dit is altyd Ou Goliat se minimum straf. Hy sê gereeld dit is die enigste manier om iemand wat nie ore het nie te leer om te hoor. Trompie en Rooie sug al twee swaar. Hulle is in die sop, dis seker. Trompie dink daaraan dat hy nie eintlik iets verkeerds gedoen het nie, maar hy is nogtans al weer in die moeilikheid. Hy wou Rooie mos maar net ’n poets gebak het. Dis al. Die arme Trompie weet egter nie watter groot probleme die gomtoffies nóg vir hom gaan veroorsaak nie!
6
Trompie in die moeilikheid
Die klas is weer stil. Almal sit en leer. Net Trompie en Rooie kan nie op hul werk konsentreer nie, al wil hulle ook. Hulle dink aan die detensie wat voorlê. Ou Goliat is genadeloos. Trompie sien die onderwyser is nou verdiep in sy geskiedenisboek. Hy leun effens oor na Rooie toe en fluister agter die aantekeningboek wat hy voor sy gesig hou om te wys hoe ernstig hy kastig leer: “Askies.” “Dis nie jou skuld nie,” fluister Rooie terug. “Hoeveel detensie dink jy gaan ons kry?” “Minstens ’n week s’n,” sê Trompie skor. Trompie sit sy aantekeningboek weer op die bank neer. Hy stut sy voorkop met sy hand en maak of hy ernstig leer, maar loer deur sy oopgespreide vingers na die onderwyser. Hy wonder wat hy kan doen om Ou Goliat se hart sag te maak sodat hy hulle nie pouse moet “spreek” nie. Skielik sien Trompie deur sy oop vingers iets wat ’n koue rilling langs sy ruggraat afjaag. Hy neem sy hand voor sy gesig weg en kyk op om behoorlik te kan sien. Trompie se oë rek al wyer. Die onderwyser trek die papiersak nader, steek sy vingers daarin en haal ’n groot gomtoffie uit die papiersak! Trompie sit versteen. As Ou Goliat daardie stuk kou, gaan sy kakebene só aan mekaar vassit dat niemand hulle ooit weer sal oopkry nie! Die groot hand bring die toffie nader na sy mond. Trompie vlieg op. Hy móét die onderwyser keer!
“Meneer!” skree Trompie hard. Die kinders wip soos hulle skrik. Die onderwyser ook. Hy laat val die toffie skoon op die tafel. “Wat’s dit met jou?” bulder Ou Goliat. “Hoekom laat jy ons so skrik?” “Ekskuus, Meneer,” sê Trompie verleë. “Ek het nie bedoel om so hard te skree nie.” “Wat wil jy hê?” Ou Goliat gluur onder sy woeste wenk-broue na die seun. Trompie vermoed die ergste gevaar is verby. Die gomtoffie lê nou op die tafel. Die onderwyser sal dit darem seker nie voor almal optel en eet nie. Hy gee ’n verleë laggie en sê: “Ek weet nie wat my makeer het nie... Dit het sommer so vanself gekom... die geskree, Meneer weet...” Ou Goliat kyk peinsend na Trompie. Probeer die karnallie wat altyd so ’n hanswors is en allerhande streke uithaal, gekskeer met hom, die onderhoof, wat bekend is vir sy ysterdissipline? Nee, hy kan dit darem nie glo nie. Trompie sal dit nooit waag nie. Die onderwyser besluit stilletjies om pouse vir Trompie nog meer detensie te gee as wat hy aanvanklik beplan het. Hy glo nie hierdie storie van die seun wat kastig nie weet hoekom hy so geskree het nie. “Sit!” bulder Ou Goliat. “En moenie van pouse vergeet nie.” Trompie maak soos die onderwyser sê. Die klas is stil. Trompie stut sy kop weer met sy hand en loer nes vroeër deur sy vingers na die onderwyser wat nou half lusteloos deur die geskiedenisboek voor hom blaai. Trompie wens die klok wil lui sodat Ou Goliat moet loop en die papiersak toffies – én die groot gomtoffie wat nog op die tafel lê – daar moet los. Die man sal hom wat Trompie is lewendig afslag as hy daardie kastige lekker moet eet en sy kakebene nie weer kan oopkry nie. Trompie wil liewer nie eens aan so iets dink nie. Skielik sit Trompie penregop. Die onderwyser steek sy hand weer na die
gomtoffie op die tafel toe uit en bring dit stadig na sy mond toe. “Meneer…” Hierdie keer skree Trompie nie. “Ja? Wat wil jy nou weer hê? Hoekom leer jy nie?” “Meneer,” sê Trompie weer en sluk swaar terwyl die klas verbaas na hom kyk. Almal wonder wat verkeerd is. “Meneer... ek dink nie dis ’n goeie idee nie...” “Wat?” Die leerders kan sien en hoor Ou Goliat word nou gevaarlik. Sy stem is so ysig soos die koudste windjie van die Drakensberge af as daar sneeu op al die pieke is. “Ek bedoel,” begin Trompie weer, “Meneer moet... liewer nie daai toffie eet nie.” So ja, dis uit. Trompie voel beter. Al gebeur wat ook al, hy het Ou Goliat mos nou gewaarsku en die mense moet dit darem in sy guns onthou as hulle ná vandag miskien van hom gaan praat as “oorlede Trompie”. “Hoekom moet ek dit nie eet nie?” Trompie dink vinnig. Hy kan nie hier staan en uitblaker hoe hy die gom en die toffie gemeng het sodat hy iemand ’n poets kan bak nie. “Meneer... ek... ek dink net Meneer moet dit liewer nie eet nie,” sê Trompie bedees. “Ek vra hoekom nie?” kom die onderwyser se stem bars. “Sommer nie, Meneer.” “Probeer jy snaaks wees, mannetjie?” Ou Goliat is brie-send. Dit lyk of hy Trompie enige oomblik gaan bevlieg. “Nee, Meneer.” “Nou sit dan en hou jou mond!” Trompie is maar bly om te sit. Hy het sy bes gedoen om Ou Goliat te waarsku. Hy kan niks verder doen nie.
Die onderwyser gluur weer onder sy dik wenkbroue na Trompie. Vir sy astrante teëpratery gaan hy die seun sommer nóg ’n paar dae laat detensie sit. Dit is teen hierdie tyd al twee hele weke, maar die seun kan die tweede helfte aan die begin van volgende kwartaal doen. Ou Goliat bring die gomtoffie weer na sy mond toe. Trompie hou hom met groot oë dop. Hy sal nou sien of sy eksperiment ’n sukses was. Ou Goliat moet maar eet. Trompie voel hy kan niks meer aan die saak doen nie. Hy gaan die petalje maar net geniet. Die gedokterde toffie is in die onderwyser se mond. Trompie hou hom angstig dop. Ou Goliat trek ’n skewe gesig. Die toffie smaak snaaks, maar hy begin nogtans kou. Sy sterk tande maal die lekker al hoe sagter. Skielik besluit hy die ding is te sleg en wil dit uit sy mond haal – maar hy kan nie! “Ug... ug... ug... gug... gug...” maak hy onaardse geluide. Die onderwyser word bleek in die gesig. Die klas kyk verbaas na hom. “Gug... gug...” prewel Ou Goliat en wys na sy mond wat net-net oop is, maar nie verder kan oopgaan nie – en ook nie toe nie! Party kinders begin giggel. Trompie glimlag selfvoldaan. Sy eksperiment is ’n sukses. Die onderwyser kry sy neus met sy linkerhand beet en gryp sy ken met sy regterhand. Hy probeer sy kake met alle geweld oopdwing. Hy trap vas en trek en trek, maar dit help alles niks. Hy kan sy mond eenvoudig nie oopkry nie. “Kan ons help, Meneer?” vra Trompie beleefd. Ou Goliat se oë vlam. “Ug... gug...” kom die geluide net. Dan vlieg die onderwyser skielik op! Hy gryp die papiersak op die tafel met sy een hand en met die ander hand pluk hy Trompie aan die kraag uit sy bank en pyl met hom by die klas uit terwyl hy die hele tyd roggelgeluide maak soos hy sy kake probeer oopkry. Ou Goliat is groot en sterk en hy lig die verskrikte Trompie op sodat sy voete
net-net aan die vloer raak terwyl hulle in die gang af beweeg. Trompie se ergste vrese word bewaarheid. Hulle is reguit op pad na die hoof se kantoor toe! In die klas skater die leerders. Dit was kostelik om Ou Goliat só te sien. Rooie praat namens almal wanneer hy sê: “Ek wens sy kake bly so aan mekaar vas tot dit vakansie is.” Almal lag lekker, maar hulle kry Trompie terselfdertyd ook baie jammer. Ou Goliat gaan sy vel van sy lyf af trek! Die kinders bespreek die eienaardige voorval. Hulle kan nie verstaan hoekom die onderwyser se kake vassit nie. Rooie het dan ook ’n toffie geëet toe Ou Goliat uit die klas was. Die uitgeslape Dawie pluis die saak eerste uit – die toffie wat Rooie geëet het, moes ’n ander soort as Ou Goliat s’n gewees het. En Trompie het dit geweet. Dis hoekom hy die onderwyser probeer waarsku het. Terwyl Trompie se klasmaats verder sit en kop krap, klop Ou Goliat net een keer hard aan die hoof se kantoordeur, dan ruk hy dit oop en stap binne met die seun wat nog steeds soos ’n spartelende vink langs hom hang. Die hoof kyk verbaas op. Hy is nog meer verbaas wanneer hy die onderhoof se roggelgeluide hoor en sien hoe sy kollega verwilderd met sy hand na sy mond wys. Die hoof kry uiteindelik beheer oor sy stembande en vra verbaas: “Wat op aarde gaan aan, meneer Roux?” “Ug... gug... ug,” antwoord Ou Goliat. “Hè?” Die hoof se gesig is een groot frons. “Jammer, ek bedoel ekskuus?” “Ug... gug!” Dit val die woedende onderwyser nou eers by dat hy mos kan skryf. Hy gryp ’n pen uit sy sak en raap ’n vel papier van die lessenaar op. Trompie staan eenkant op die sagte mat. Sy oë is groot en sy knieknoppe bewe. Hy voel klein, alleen en verlate.
Meneer Roux skryf vervaard en gee die papier dan met ’n nuwe sarsie roggelgeluide vir die hoof wat dit vinnig lees. Daar staan hoe Ou Goliat ewe onskuldig ’n toffie geëet het en nou sit sy kake aan mekaar vas en hy kan hulle nie weer oopkry nie. Dit moet een van Trompie se kwajongstreke wees. Daar moet iets in die toffie wees wat dit so ontsaglik taai gemaak het – en daar is nóg van die goed in die papiersak. Die hoof kyk na die sak en dan na die seun voor hom. Trompie is grys om die kieue, maar hy glimlag moedig. “Doktor,” sê hy, “ek kan verduidelik...” “Bly stil! Ons sal later met jou afreken!” Trompie is tjoepstil. Hy kyk stip na sy ingeduikte skoen-punt en dan buk hy vinnig af en trek sy kouse op. Die hoof is mos baie gesteld op netheid. Trompie druk sy hemp ook gou agter by sy broek in. Dan staan hy maar weer mismoedig voor hom en uitstaar. Meneer Roux is weer besig om te probeer – met sy neus en ken as vatplekke – om sy bokaak van die onderste een af los te kry. Hy trek gesigte soos wat hy sukkel. Die hoof beweeg om die lessenaar en probeer Ou Goliat help. Trompie staan die affêre maar net en aankyk. Hy het mos vroeër al hulp aangebied, maar Meneer Roux wou niks weet nie. “Ek dink ons moet ’n dokter inroep,” sê die hoof. Trompie dink aan hoe dit hom tydens sy eerste jaar hier op hoërskool altyd verbaas het dat die hoof ’n doktor is, maar heeldag net hier by die skool rondsit. Trompie het altyd gewonder hoekom hy nie uitgaan om siek mense gesond te maak nie. Dis mos wat ’n dokter moet doen. Gelukkig verstaan Trompie nou die hoof is ’n doktor op ’n ander gebied as die mediese wetenskap. “Ug... gug... ug,” stotter Ou Goliat en knik met sy kop. Die hoof moet asseblief dadelik ’n dokter ontbied. Net toe die hoof die foon optel, is daar ’n klop aan die deur en twee onderwysers
kom binne om hom te spreek. Dit is meneer Harmse (wiskunde) en meneer Dykman (Afrikaans). Die hoof vertel vinnig vir hulle wat gebeur het. Die twee kyk nou belangstellend na hul kollega wat so staan en roggelgeluide maak. Meneer Dykman glimlag. Dit lyk of hy enige oomblik hardop gaan uitbars van die lag, maar hy bedwing hom toe hy sien hoe kwaai meneer Roux hom aangluur. Daar speel ’n effense glimlag om die hoof se mondhoeke ook. As hy nou alleen was, sou hy beslis heerlik gelag het. Die wiskunde-onderwyser stryk met sy een hand oor sy bokbaardjie, terwyl hy Ou Goliat van nader bekyk. Dan sê hy vir die hoof: “Dis nie nodig om ’n dokter te bel nie, Doktor. Ek het op ’n plaas grootgeword. Ek het al baie perde en beeste se vasgeklemde kake oopgemaak.” Ou Goliat gluur die jong onderwyser aan. Vergelyk die vent hom met ’n perd of ’n bees? Maar die taai ding in sy mond moet uit en hy knik sy kop om vir die jongman te wys hy moet voortgaan. Hy, die onderhoof, is nou moeg om soos ’n gek hier te staan en geluide maak. Meneer Harmse stap haastig by die kantoor uit terwyl hy mompel dat hy sy instrumente gaan haal. Trompie se oë is groot. Hy wonder watter instrumente Ou Baardjie gaan gebruik. Dit klink mos interessant. Trompie het nog nooit gesien hoe ’n perd of ’n bees of ’n mens se vasgeklemde kake oopgebeur word nie. Die wiskunde-onderwyser is gou weer terug met ’n groterige, plat ysterstaaf (amper soos die soort wat ’n mens gebruik om ’n motorband aan te sit) en ’n ding wat lyk soos draad wat aan die een punt boogvormig gebuig is. Die jong onderwyser vra Ou Goliat om op die stoel langs die lessenaar te sit en sy kop agteroor te hou. “Sy bene moet vasgehou word,” sê Ou Baardjie. Meneer Dykman pak die een been en die hoof die ander een. Trompie staan belangstellend nader. Ou Baardjie buk soos ’n tandarts oor Ou Goliat. Hy druk die plat yster effens aan die kant van die onderhoof se mond in en dan lig hy dit vinnig op. Ou Goliat kreun en spartel, maar die hoof en meneer Dykman hou styf vas! Die boonste kaak begin effens lig en Ou Baardjie druk die draderige instrument met die geboë punt aan die ander kant van Ou Goliat se mond in.
“Nou!” sê die wiskunde-onderwyser en hy trek. Dit is twee bewegings – die groot yster word boontoe geruk en die draadinstrument vinnig vorentoe gepluk. Ou Goliat spartel, maar dan kom die toffie. Dis uit! Ou Baardjie het dit in sy hand. Hy glimlag triomfantlik. “Sien, ek het mos gesê ek’t dit al baie met perde en beeste gedoen!” Ou Goliat hou sy onderkaak vas terwyl hy gaapbewegings maak. Dit is seer, maar hy is dankbaar hy kan sy kake weer beweeg. “Gaan net gou my mond uitspoel,” mompel hy. Die hoof bedank Ou Baardjie en meneer Dykman vir hul hulp. Al drie is dik van die lag. As Trompie nie nou hier was nie sou hulle behoorlik geskater het. Toe die onderwysers uit is, kyk die hoof na Trompie en na die stuk toffie (dit kos verbeeldingskrag om dit so te noem) wat nou op die lessenaar lê. Ou Goliat se skerp tandmerke is duidelik daarop te sien. Die hoof tel dit versigtig met sy sakdoek op en gooi dit in die snippermandjie. Hy het nie ’n bewysstuk nodig nie. Hier was mos getuies. Ou Goliat kom weer by die kantoor in. Hy lyk nou heel skaflik. Hy vertel vir die hoof wat presies gebeur het. Trompie voel beter toe hy hoor Ou Goliat is darem regverdig. Hy vertel vir die hoof Trompie het hom gewaarsku om nie die toffies te eet nie. Toe hy klaar gepraat het, sê die hoof: “Hierdie lekkers is uiters gevaarlik. Die verkoop daarvan moet onmiddellik stopgesit word.” Die onderhoof knik instemmend. Hy voel-voel weer aan sy seer kakebeen. “Waar het jy die goed gekoop, Trompie?” vra die hoof. “By oom Stavrinos, Doktor.” “Maar wat besiel die man om sulke gevaarlike goed van die hand te sit?” wil die hoof ontsteld weet. Trompie besluit om maar met die hele sak patats vorendag te kom. Die Griekse oom het niks verkeerd gedoen nie. Daar is niks fout met die toffies wat hy verkoop nie.
“Doktor sien,” sê Trompie en begin sorgvuldig verduidelik hoe daar niks met die goed verkeerd was toe hulle dit gekoop het nie. Maar toe eet Rooie al sy suiglekkers op en skimp vir toffies en toe besluit Trompie om hom ’n poets te bak. “Net ’n klein ou poetsie, Doktor weet,” gaan Trompie voort. Hy vertel van sy blink plan om gom aan die toffies te smeer en die mengsel dan te verhit. Dit was regtig net vir Rooie bedoel en hy sou nooit kon droom die goed gaan só taai wees, dat selfs meneer Roux se sterk kakebene daarin sou vassit nie. Trompie stoot sy bors nou effens uit en praat met meer selfvertroue. Hy het nie kon droom meneer Roux sou ooit van die toffies eet nie – en hy het hom probeer keer toe hy sien hy wil een in sy mond steek. Dit is die einde van sy storie. Trompie kyk na sy ingeduikte skoenpunt asof dit iets te doen het met die moeilikheid waarin hy is, en sê: “En dis maar al, Doktor.” Vir die hoof – en selfs vir die onderhoof – klink Trompie se storie heeltemal aanvaarbaar. Dan onthou Ou Goliat skielik dat Rooie gesit en kou het toe hy so onverwags terug by die klaskamer ingestap het. “Hoekom het Rooie se kakebene dan nie ook vasgesit nie?” vra hy. Trompie verduidelik hy het twee gewone toffies bo in die papiersak gehad wat as lokaas moes dien – twee wat hy nie gedokter het nie. Rooie het die een geëet en die ander een is nog steeds onder sy lessenaar. “Ek sal dit gaan haal,” bied Trompie aan, “dan kan Doktor sien daar’s niks mee verkeerd nie.” “Nou toe, maak so,” sê die hoof. Dit sal mos bewys die seun vertel nie leuens nie. Toe Trompie in die klas kom, skree die kinders die vrae uit wat hulle sit en bespreek het. “Wat het gebeur?”
“Kan Ou Goliat al praat?” “Watse straf het jy gekry?” “Wat was verkeerd met die toffie?” Trompie antwoord net: “Later, ouens!” Hy gryp die toffie onder sy bank en hardloop daarmee by die gang af. In die kantoor gee hy dit vir die hoof. Ou Goliat sit nou op die stoel voor die lessenaar. Hy is besig om sy kakebene saggies te masseer. Die hoof kyk mooi na die toffie. “Doktor kan dit maar probeer,” sê Trompie. “Doktor sal sien daar’s niks mee verkeerd nie. Dis net soos ek dit by oom Stavrinos gekoop het.” “Jy bedoel dis nie ’n gedokterde een nie?” Die hoof glimlag effens. Trompie knik. “Is jy doodseker?” Trompie knik weer. Dit is beslis nie ’n gomtoffie nie. Die hoof kyk na die lekker. Hy gaan dit op die proef stel. Dit is sy plig om alles oor die saak uit te vind – en hy het boonop ’n voorliefde vir toffies! Hy sit die toffie in sy mond en begin kou. Dit gaan eers goed, maar dan skielik… Ou Goliat en Trompie staar geskok na die hoof! Trompie sluk swaar. Die hoof wys dieselfde simptome as Ou Goliat toe hy die gomtoffie geëet het! Die arme man se oë rek al wyer en sy gesig vertrek al hoe meer, maar dit help alles niks. Sy kakebene is styf aan mekaar vasgemessel. Die skoolhoof maak nou dieselfde roggelgeluide as Ou Goliat ’n ruk vroeër. Trompie voel hoe sy bene begin bewe. Hy kyk na die oop venster. Hy is sommer lus om daardeur te spring en vir die vale weg te hardloop – die wye wêreld in!
7
Eksamen!
Ou Goliat vlieg op en hardloop om die lessenaar. “Wat’s dit, Doktor, wat gaan aan?” vra hy beangs. “Ug... gug... ug,” is al antwoord wat die onderhoof kry. Dit was ’n onsinnige vraag. Dit is mos duidelik die hoof het ook ’n gedokterde gomtoffie geëet. Trompie is so verskrik dat hy eers glad nie kan dink hoe so ’n fout kon ingesluip het nie. Hy het die een gewone toffie mos vir Rooie gegee en die ander een onder sy bank ingesit. Dan skiet dit hom skielik te binne – hy moes die verkeerde toffie, ’n gedokterde een, onder die bank gesit het. Die gewone toffie is met ander woorde nog in die papiersak! “Moenie soos ’n soutpilaar daar staan nie!” snou Ou Goliat vir Trompie toe terwyl hy die hoof se kake probeer ooptrek. “Gaan roep meneer Harmse. Sê hy moet weer sy instrumente bring!” Die verskrikte Trompie skiet soos blits by die deur uit. Hy hoor hoe die hoof proes en dan weer begin roggelgeluide maak. Sê nou hy verstik en gaan dood? Trompie se bene vlieg by die lang gang af. Meneer Harmse wat die kuns verstaan om geklemde kake te ontklem – ’n perd of ’n bees of ’n mens s’n – raap sy instrumente op toe Trompie hom uitasem meedeel dat die hoof ook ’n gomtoffie geëet het, en dat sy mond nou ook vasgemessel is. Hy hardloop agter Trompie aan by die gang af. In die kantoor maak die hoof nog steeds onaardse rog-gelgeluide en sukkel om sy mond oop te kry. “Toemaar, ek is hier, Doktor,” sê Ou Baardjie toe hy by die kantoor invlieg met
die groot yster in die een hand, en die gebuigde draadinstrument in die ander een. Die wiskunde-onderwyser voer die operasie vinnig uit. Ou Goliat hou die hoof se bene styf vas terwyl Ou Baardjie eers die yster in die hoof se mond druk dan die draadinstrument. Dit gaan die tweede keer makliker en gouer – net ’n vinnige ruk en ’n pluk en die gomtoffie is uit. Die hoof hyg na asem en vryf sy kakebeen. Dan sit hy sy bril wat effens op sy neus afgegly het netjies reg. “Wag hier!” sê hy ferm vir almal en stap by die kantoor uit. Hy gaan water drink. Trompie en die onderwysers wag. Ou Goliat begin opgewonde vir Ou Baardjie vertel wat nou weer gebeur het – Trompie het sowaar vir die hoof ’n toffie wat met gom gemeng is, aangebied! Gepraat van verwaandheid en astrantheid! “Ek het dit nie aspris gedoen nie, Meneer,” sê Trompie in ’n patetiese stem. “Dit was per ongeluk.” “Bly stil! Ek praat nie met jou nie!” snou Ou Goliat hom toe. “Die hoof sal met jou afreken. Ek kry jou jammer, mannetjie.” Trompie kry homself ook jammer. Hy staar verlangend by die venster uit. Maar dit sal dinge seker net erger maak as hy nou op vlug slaan. Die hoof kom weer in. Hy gaan sit sedig en statig op die swaaistoel agter sy lessenaar. Dan kyk hy oor sy bril na Trompie en sê: “Kan jy enige verduideliking gee vir jou... verregaande vermetelheid?” Trompie is bleek, maar dankbaar dat hy darem ’n kans kry om te verduidelik. Hy was bang die hoof sou hom sommer net bydam en ’n afgedankste loesing gee. “Doktor sien,” begin Trompie ernstig, “die saak staan só: ek het die twee gewone toffies bo in die papiersak gesit. Toe gee ek een vir Rooie en haal die ander een uit en bêre dit onder my bank vir myself – vir pouse, Doktor weet.” Die hoof se skerp, deurdringende oë is stip op Trompie gerig, maar die seun hoef
nie sy kop te laat sak nie. Hy vertel mos die reine waarheid. “Ek moes ’n fout gemaak het, Doktor,” sluit Trompie sy storie af. “Ek het ’n gedokterde toffie onder my bank gesit, pleks van die ander gewone een. Daai een moet nog steeds daar in die papiersak wees.” Die hoof en die twee onderwysers kyk na mekaar. Hulle wonder of hulle hierdie storie moet glo. “As Doktor wil, sal ek vir Doktor wys,” sê Trompie hoopvol. Die hoof kyk na Trompie. Hy kan nie glo die seun sal opsetlik leuens vertel nie. Hy ken Trompie goed. Hy is wel af en toe ’n hand vol, maar hy is ’n goeie en eerbare seun. Die poets wat Trompie vir Rooie wou bak, het ’n hele paar onvoorsiene en onaangename gevolge gehad, maar die seun kan dit mos nie verhelp nie. Hoe moes hy geweet het die onderhoof sou van die gomtoffies eet – en daarná boonop nog die hoof ook? “Nou toe, wys my,” sê die hoof. Trompie moet ’n kans kry om te bewys hy praat die waarheid. Trompie vat die papiersak. Hy steek sy hand in en haal ’n toffie uit. Hy bekyk dit aandagtig. Dan haal hy nóg een uit en bekyk dit ook. Trompie sit die twee toffies op die lessenaar neer. Die hoof en twee onderwysers hou hom stip dop. “Doktor,” vra hy dan, “mag ek die hele papiersak maar omkeer?” Die hoof knik en Trompie gooi die inhoud op die lessenaar uit. Dan kyk hy noukeurig na al die toffies. Daar is een wat effens ligter as die ander is. Dit móét die een wees wat nie gedokter is nie! “Dis hy dié, Doktor,” sê Trompie. “Dis een wat nie gom aan het nie. Ek is seker daarvan.” Die hoof kyk na die toffie. Die onderhoof en meneer Harmse kyk ook. Vir hulle lyk hierdie een maar net soos die ander. “Ek sal dit eet, Doktor,” sê Trompie vinnig. “Dan sal Doktor sien – my kakebene
sal nie vassit nie.” “Goed,” sê die hoof saaklik, maar hy beduie darem vir meneer Harmse om reg te staan met sy instrumente. Trompie bring die toffie stadig na sy mond toe en hoop en bid dit is die regte een. As dit ’n gomtoffie is en sy kakebene sit aan mekaar vas, is hy vandag propperlies (soos Blikkies sou sê) oor die wal! Die toffie is in Trompie se mond. Hy begin kou. Die toffie smaak nie sleg nie. Dit is taai, maar heerlik. Trompie se kake beweeg vinnig op en af. Hulle sit nie vas nie. Hy woel die toffie na die kant van sy kies toe en sê verlig: “Sien, Doktor, daar’s niks mee verkeerd nie. Dis nie ’n gomtoffie nie.” Trompie se gesig straal. Hy het nou mos bewys omstandighede was vandag maar net teen hom. Hy het nie ’n leuen vertel nie. Die gedokterde toffies was regtig nie vir die onderhoof of die hoof bedoel nie. Die skoolhoof is tevrede met hoe sake verloop het. Sy instink was reg. Hy kon nie glo Trompie sou so astrant wees om opsetlik vir hulle gomtoffies te voer nie. Ou Goliat is nou ook nie meer so woedend nie. Hy besef dit was bloot ’n ongeluk en dat hy eintlik aandadig aan die hele aangeleentheid was. Trompie het hom mos gewaarsku – en dit tel baie in die seun se guns. Die enigste een wat effens teleurgesteld voel, is Ou Baardjie. Hy raak nou so gekonfyt om vasgeklemde kake met sy instrumente los te maak, dat hy dit nogal sou geniet het om dit ’n derde keer te doen. Trompie ontspan nog lank nie. Hy wag vir die hoof om iets te sê. Hy wonder wat sy straf gaan wees. “Doktor,” begin hy vir versagtende omstandighede pleit, “dit was alles net ’n ongeluk. Ek is jammer. Ek wou net ’n grappie met Rooie maak, Doktor. Dis maar al.” “Toemaar, ek glo jou,” sê die hoof en Trompie voel sommer baie beter – veral toe hy sien daar speel ’n glimlag om die hoof se mondhoeke. Dit lyk darem nie of sy vel van sy lyf af getrek gaan word nie.
“Nogtans,” sê die hoof, “jy moet gestraf word omdat jy sulke goed skool toe bring. En óók omdat jy vir Rooie in die klas lekkers aangebied het. Dink jy nie ook so nie, meneer Roux?” Ou Goliat stem volkome saam. “Ek het vir hulle gesê om my pouse te kom spreek, Doktor – dan sal ek vir hulle straf uitdeel.” “Goed, kollega. Laat hulle die werk wat hulle gedurende daardie periode moes geleer het, uitskryf.” Trompie kan sy geluk nie glo nie. G’n detensie nie! Hy begin sommer glimlag. Die hoof dink duidelik nie hul oortreding was só ernstig nie. Meneer Roux stem nie saam met die hoof nie, maar besluit om stil te bly. “Jy kan gaan, Trompie,” sê die hoof uiteindelik. “Maar staak nou jou kwajongstreke. Die eksamen begin volgende week en jy sal moet rekenskap gee as jy nie goed vaar nie.” “Ja, Doktor. Dankie, Doktor. Ek sal baie hard leer, Doktor.” Trompie maak hom vinnig uit die voete. Kwaggaberg Hoër se hoof sou nie so ’n goeie skool opgebou het, as hy nie afgesien van sy knap leierseienskappe, ook ’n gesonde humorsin gehad het nie. Hy begin nou oor die hele voorval lag. Die trane rol later oor sy wange. Ou Bokbaardjie lag hartlik saam en dan val Ou Goliat ook maar in. Hy voel dit is sy plig as onderhoof, al is hierdie hele insident nie vir hom heeltemal so snaaks nie. Buite die kantoor hoor Trompie hoe die onderwysers lag – en dan begin hy ook skater. Hy is só verlig dat die affêre goed afgeloop het, dat hy sommer begin bokspring terwyl hy terug klas toe loop. Hy moet eers vir almal verduidelik wat presies gebeur het. Dawie is net jammer die hoof het die gomtoffies gekonfiskeer, anders kon hulle mos nog baie pret met die goed gehad het. “Nooit weer nie!” sê Trompie dadelik en hy bedoel dit. Hy het vandag te groot geskrik. Die hele skool lag oor hierdie snaakse voorval. Die middag toe die kinders die
storie by hul huise gaan oorvertel, lag die hele dorp. Almal is net spyt hulle kon die petalje nie met hul eie oë aanskou het nie. Verbeel jou, eers die knorrige Ou Goliat wat die gomtoffie eet, en sy kakebene nie kan oopkry nie, en toe die waardige skoolhoof! Weke ná die voorval dryf die hoof en onderhoof se vriende nog goedig die spot met hulle. Dominee maak byvoorbeeld ’n punt daarvan om wanneer hy die hoof teëkom te vra: “Nog nie weer lus vir ’n toffie nie, Doktor?” Die middag ná die toffie-episode by die skool, kan Trompie en Rooie nog nie vir die eksamen begin leer nie. Hulle moet mos uitskryfwerk as straf doen. Die twee sit die hele middag en skryf aan die oorsake en die gevolge van die Franse Revolusie. “As ons hierdie vraag in die eksamen kry, is ons koppe deur,” sê Trompie vir Rooie. “Ja, met geskiedenis in elk geval,” brom sy vriend. Die dae vlieg verby en drie dae voor die eksamen pak Trompie sy boeke in alle erns. Volgens sy teorie is dit nou tyd om te begin leer. En Trompie leer dat dit klap – tot laat elke middag en elke aand! Die een middag leer hy ure lank aan Boyle se Wet waarvan almal so praat, maar later gee hy die stryd gewonne. Hy kan die storie oor die druk waaronder ’n gas verkeer wat omgekeerd eweredig is aan die volume wat die gas inneem, net eenvoudig nie verstaan nie. “Ag,” sê hy toe hy uiteindelik sy natuurwetenskaphand-boek toemaak, “die onnie sal dit nie vir ons vra nie. Dis te moeilik. Dit sal onregverdig wees.” Trompie hoop maar hy misgis hom nie. Hy kan nie nou meer tyd aan hierdie werk afstaan nie. Daar is nog ander vakke ook om voor te leer. Die Boksombende sien die drie dae vóór die eksamen maar min van mekaar. Hulle leer hard. Die enigste een wat dit kan bekostig om rond te loop, is Dawie. Hy het mos lankal klaar geleer. Hy ken sy werk. Selfs ’n paar minute vóór hulle by die saal instap om eksamen te skryf, leer Trompie, Rooie en Blikkies nog. Hulle is bitter benoud, en wonder of hulle nie miskien verkeerd was om in Trompie se teorie te glo nie. Dit voel nou asof hulle
niks kan onthou van wat hulle die afgelope drie dae geleer het nie. Maar op hierdie eerste dag is Trompie besonder gelukkig! Hulle begin met geskiedenis. Ou Goliat deel die vraestelle uit. Hy sit dit onderstebo neer sodat die kinders nog nie die vrae kan lees nie. Trompie se hart bons. Hy ken ’n paar afdelings van die werk taamlik goed, maar daar is een deel wat hy na sy en Rooie se uitskryfwerk, uitstékend ken – die Franse Revolusie. As hy ’n vraag daaroor kry, gaan dit vir hom kosbare punte beteken. Ou Goliat staan voor die klas en kyk op sy horlosie. “Julle kan begin,” sê hy. Trompie gryp die vraestel en draai dit om. Sy oë gly vinnig oor die vrae. Skielik verhelder sy hele sproetgesig. Daar staan die vraag sowaar! Skryf twee bladsye oor die OORSAKE en die GEVOLGE van die Franse Revolusie. Rooie sit by ’n tafel in die ry langs Trompie s’n. Hulle kyk na mekaar en knipoog tevrede. Dankie tog vir daardie strafwerk. Hier is een vraag wat hulle omtrent perfek kan beantwoord. Trompie lees die ander vrae nou ook sorgvuldig deur en hy voel nog steeds gelukkig. Daar is ’n hele paar oor werk wat hy taamlik goed ken. Dan val Trompie weg. Hy skryf stadig en mooi:
Geskiedenis
en daaronder sy naam:
Trompie Toerien.
Nou wil hy die opskrif en sy naam eers onderstreep voor hy die vrae begin beantwoord. Trompie maak eers seker sy liniaal is skoon sodat dit nie sy netjiese werk bemors nie. Dan sit hy die liniaal onder die opskrif, maak sy een oog toe en korrel om te kyk of dit mooi reguit is, vat sy pen en trek die streep. Dieselfde prosedure word met die streep onder sy naam gevolg. Dan sit Trompie ’n oomblik en bewonder sy pragtige werk. Hy besluit dit sal miskien nog mooier lyk as hy ’n tweede streep onder die opskrif en sy naam trek. Trompie doen dit rustig en akkuraat. So ja, nou lyk dit selfs nog beter – sommer baie spoggerig. Hy wonder wat hy nog kan doen voor hy begin. Trompie kan aan niks dink nie. Hy tel sy pen weer op. Hy sal seker nou maar moet begin om die vrae te beantwoord. Trompie doen die vraag wat hy so goed ken eerste. Hy skryf nou vinnig. Die volgende vraestel wat hulle die oggend moet skryf, is natuurwetenskap. Trompie is baie bekommerd oor hierdie vak. Hy ken so ’n paar eksperimente en verhoudings en sulke goed, maar daar is een ding waarvan hy niks weet nie, en dis die ding wat almal sweer in die vraestel gaan wees – Boyle se Wet. Toe die onderwyser sê hulle kan begin, draai Trompie die vraestel met ’n swaar hart om. Hy begin soek die vraag oor Boyle se Wet – maar dit is nie daar nie! Hy slaak ’n sug van verligting en glimlag van oor tot oor. Daar is ’n klomp vrae wat Trompie taamlik goed ken en ’n paar waarvan hy darem so iets weet. Hy begin sommer dadelik skryf, want hy het amper nie met die geskiedenisvraestel klaar gekry nie. ’n Week later is die eksamen verby en die leerders kry hul rapporte om huis toe te neem. Trompie het nie te sleg gedoen nie, maar ook nie juis te goed nie. Op sy rapport staan daar:
Trompie sou beter gevaar het as hy vroeër begin leer het.
Trompie stem nie saam met hierdie opmerking nie. Hy is daarvan oortuig dat hy alles sou vergeet het as hy vroeër begin werk het. Nou het hy darem iets onthou – en hy het nie één vak gedruip nie! Die middag van die laaste skooldag stap die Boksombende opgeruimd met die voetpaadjie deur die veld na die dam in die kloof toe. Daar gaan nou vir amper twee weke nie skool wees nie. Wat ’n heerlike gedagte! Die bende se Grootkaptein stap heel voor. Sy pet sit vandag ekstra windmakerig skeef op sy kop, sy hemp hang verder as gewoonlik by sy broek uit en sy kouse lê op sy skoene – maar niemand kan daaroor kla nie, want dit is mos vakansie! Rooie volg kort agter Trompie. Hy loop kreupel, want hy het ’n klippie met sy tone opgetel en knyp dit nou styf tussen hulle vas. Dit is ongemaklik, maar hy wil kyk hoe lank en hoe ver hy só kan loop voordat die klippie sy voet te seer maak. Hy gaan vandag ’n rekord probeer opstel. Blikkies stap net agter Rooie in die voetpaadjie. Hy loop en kou ’n grashalmpie en smag na kougom. Hy wonder wanneer gaan Dawie se gawe niggie weer vir hom geld gee. Dawie kom heel agter aangestap. Hy hou homself besig deur klippe te gooi, wat die blaffende Boesman dan moet gaan haal. Die Boksombende het baie planne vir die vakansie. Hulle gaan nou eers kyk of die water in die dam al warm genoeg is, sodat hulle kan begin swem. Dan is hulle ook van plan om te gaan visvang in die spruit aan die ander kant van Kwaggaberg, en verder het Dawie belowe hy gaan hulle leer krieket speel. Daar is boonop ’n moontlikheid dat hulle vir ’n paar dae saam met Dawie se niggie na haar ouers se plaas in die Bosveld toe sal gaan. Een ding is seker: Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie gaan die vakansie terdeë geniet – en vroeër of later sal hulle oudergewoonte in die sop beland!
Die einde
Uitgegee in 2007 deur Human & Rousseau, ’n afdeling van NB-Uitgewers (Edms) Beperk, Heerengracht 40, Kaapstad
Kopiereg © 2007 NB-Uitgewers (Edms) Beperk
Oorspronklik uitgegee as Trompie die vegter (Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1955)
Derde uitgawe, eerste druk
Alle regte voorbehou Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting
ISBN: 978-0-7981-4766-8 EPUB: 978-0-7981-5473-4