13 uur
Deon Meyer
Human & Rousseau
Vir my broers, Bertus en Francois
05:36 – 07:00
1
Om 05:36 hardloop sy teen die steilte van Leeukop uit, die voeteval van haar sportskoene dringend op die gruis van die breë voetpad. Op dié oomblik, wanneer die vroeë strale van die son haar soos ’n soeklig teen die berg vind, is sy die toonbeeld van sorgelose grasie. Van agter gesien, wip haar donker vlegsel teen die klein rugsak; haar nek is ’n diep sonbruin teen die poeierblou van haar T-hemp. Daar is energie in die ritmiese tred van haar lang bene in die denimkortbroek. Sy skep die indruk van atletiese jeugdigheid – lewenslustig, gesond, gefokus. Tot sy skielik gaan staan en oor haar linkerskouer terugkyk. Dan verbrokkel die illusie, want daar is angs in haar gelaatstrekke. En uitputting. Sy sien nie die indrukwekkende skoonheid van die stad in die sagte lig van die opkomende son nie. Haar oë soek wild en bang na beweging in die hoë fynbos agter haar. Sy weet hulle is daar, maar nie hoe naby nie. Haar asem jaag – van inspanning, skok en vrees. Dit is adrenalien, die verskriklike drang om te leef, wat haar dwing om weer te begin hardloop, om aan te hou, ondanks haar lam ledemate, die brand in haar bors, die tamheid van ’n nag sonder slaap en die disoriëntasie van ’n onbekende stad, ’n vreemde land, ’n ongenaakbare kontinent. Voor haar vurk die paadjie. Haar instink dwing haar regs, hoër op, nader aan die Leeukop-rotskoepel. Sy dink nie, sy het nie ’n strategie nie, sy hardloop blindelings, haar slanke arms is die stange van die masjien wat haar aandryf.
* * *
Speurder-inspekteur Bennie Griessel slaap.
Hy droom hy bestuur ’n groot tenkvragmotor teen die afdraande af op die N1 tussen Plattekloof en Parow, te vinnig, nie heeltemal onder beheer nie. Wanneer sy selfoon lui, is die eerste skril toon genoeg om hom met ’n vlietende gevoel van verligting na die werklikheid te laat opstyg. Hy maak sy oë oop en kyk na die radiowekker. Dit is 05:37. Hy swaai sy voete van die enkelbed af, die droom vergete. Hy sit vir ’n oomblik op die rand, stil, soos ’n man voor ’n afgrond, en dan staan hy op en strompel deur toe, af met die houttrap na die leefvertrek onder, waar hy sy selfoon gisteraand laat lê het. Sy donker hare, te lanklaas gesny, is deurmekaar. Hy het net ’n verbleikte rugbybroek aan. Sy enigste gedagte is dat ’n oproep dié tyd van die oggend slegte nuus moet wees. Hy herken nie die nommer op die foon se paneel nie. “Griessel.” Sy stem verraai hom, hees vir die eerste woorde van die dag. “Hei, Bennie, dis Vusi. Ek is jammer om jou wakker te bel.” Hy sukkel om te fokus, sy kop wollerig. “Dis O.K.” “Ons het ’n … liggaam.” “Waar?” “St. Martini, die Lutherse kerk bo in Langstraat.” “In die kerk?” “Nee. Sy lê buite.” “Ek is nou daar.” Hy beëindig die oproep en stoot ’n hand deur sy hare. Sy, het inspekteur Vusumuzi Ndabeni gesê. Seker ’n bergie. Wat te veel van die een of ander iets gedrink het. Hy sit die selfoon neer langs sy nuwe, tweedehandse skootrekenaar.
Hy draai om, nog nie heeltemal wakker nie, en stamp sy skeen teen die voorwiel van die fiets wat aangeleun staan teen sy pandjieswinkel-rusbank. Hy gryp dit voor dit omval. Dan klim hy die houttrappe uit, boontoe. Die fiets is ’n vae herinnering aan sy finansiële verknorsing, maar hy wil nie nou daaraan dink nie. In sy slaapkamer trek hy die kortbroek uit en die muskusreuk van seks styg van sy middellyf af op. Fok. Die kennis van goed en kwaad kom lê skielik swaar op hom. Saam met die gebeure van die vorige aand, pers dit die laaste lomerigheid uit sy kop. Wat het hom besiel? Hy gooi die broek met ’n beskuldigende boog na die bed toe en loop by die badkamer in. Griessel lig die deksel van die toilet ergerlik, mik, en urineer.
* * *
Skielik is sy op die teer van Seinheuwelweg en sy sien die vrou en die hond, honderd meter links van haar af, en haar mond vorm ’n uitroep, twee woorde, maar haar stem is verlore in die jaag van haar asem. Sy hardloop na die vrou en die dier toe. Die hond is groot, ’n rifrug. Die vrou is dalk sestig, wit, met ’n groot pienk sonhoed, ’n wandelstaf en ’n klein sakkie op haar rug. Die hond is skielik onrustig. Dalk ruik hy haar vrees; miskien voel hy die paniek in haar aan. Haar sole klap op die teer wanneer sy vaart verminder. Sy gaan staan, drie meter van hulle af. “Help me,” sê die meisie. Haar aksent is sterk.
“What’s wrong?” Kommer in die vrou se oë. Sy tree terug. Die hond grom en beur aan die leiband, nader na die meisie toe. “They’re going to kill me.” Die vrou kyk verskrik rond. “But there’s nobody.” Sy kyk oor haar skouer. “They’re coming.” Dan meet sy die vrou en die hond en sy weet dit gaan nie ’n verskil maak nie. Nie hier in die oopte teen die berg nie. Nie teen hulle nie. Sy gaan almal in gevaar stel. “Call the police. Please. Just call the police,” sê sy en dan begin sy weer hardloop, eers traag, haar liggaam onwillig. Die hond ruk vorentoe en blaf een keer. Die vrou trek aan die band. “But why?” “Please,” sê sy en skuifel op die teerpad, in die rigting van Tafelberg. “Just call the police.” Sy kyk een keer om, wanneer sy sewentig tree weg is. Die vrou staan steeds daar, vasgenael en effens verwese.
* * *
Bennie Griessel spoel die toilet en hy wonder hoekom hy dit nie gisteraand sien kom het nie. Hy’t dit nie gesoek nie, dit het net gebeur, jissis, hy hoef nie so skuldig te voel nie, hy’s net ’n mens. Maar hy is getroud. As jy dit ’n huwelik kan noem. Van tafel en bed en woning geskei. Nee, fok weet, Anna kan nie alles hê nie. Sy kan hom nie uit sy eie huis jaag en van hom verwag om finansieel twee huise aan die gang te hou en dan boonop wil hê hy
moet vir ses fokken maande lank nugter én selibaat bly nie. Ten minste is hy nugter. Eenhonderd-ses-en-vyftig dae al. Dit is meer as vyf maande van stry teen die bottel, dag vir dag, uur vir uur, tot hier. Here, Anna mag nooit uitvind van gisteraand nie. Nie nóú nie. Minder as ’n maand oor voor sy ballingskap uitgedien is, sy straf vir sy gesuip. As Anna moet weet, is hy heeltemal in sy moer in, al die gesukkel en swaarkry verniet. Hy sug en gaan staan voor die spieëlkassie om tande te borsel. Sien homself. Die grys by sy slape, die plooitjies langs sy swart oë, die Slawiese gelaatstrekke. Was nog nooit ’n oil painting nie. Hy maak die kassie oop, haal borsel en tandepasta uit. Wat het sy in hom gesien, die Bella-vroumens? Daar was ’n oomblik gisteraand toe hy gewonder het of sy by hom lê omdat sy hom jammer kry, maar toe was hy te lus, te fokken dankbaar vir haar sagte stem en haar groot borste en haar mond, Here, daardie mond, hy het ’n ding oor ’n mond, dis waar die moeilikheid begin het. Nee, dit het by Lize Beekman begin, maar gaan vertel dít vir Anna. Jissis. Bennie Griessel borsel sy tande haastig en dan klim hy onder die stort in en draai die krane wyd oop sodat hy die beskuldigende reuke van sy lyf kan afwas.
* * *
Dit is nie ’n bergie nie. Griessel se hart ruk vir ’n oomblik as hy oor die skerpgepunte traliewerk van die kerkmuur klim en die meisie daar sien lê. Die sportskoene, die kakiekortbroek, die oranje kamisool en die vorm van haar bene en arms sê sy is jonk. Sy herinner hom aan sy dogter. Hy loop met die smal, geteerde paadjie op, verby die hoë palm- en dennebome en ’n geel bordjie, STRICTLY AUTHORISED. CARS ONLY. AT OWNER’S OWN RISK, na waar sy op dieselfde teer, links van die mooi grys kerkgebou,
uitgestrek is. Hy kyk op, na die perfekte oggend. Helder, byna geen wind nie, net ’n vae bries wat vars seereuke teen die berg opstoot. Dit is nie ’n tyd vir dood nie. Vusi staan langs haar, by Dik en Dun van Forensies, ’n polisiefotograaf en drie in SAPS-uniform. Agter Griessel se rug, op die Langstraat-sypaadjie, staan nog uniforms, minstens vier in die wit hemde met swart epoulette van die Metropolisie, ewe selfbelangrik. Saam met ’n klompie omstanders leun hulle met arms op die traliewerk en kyk na die stil figuur. “Môre, Bennie,” sê Vusi Ndabeni op sy sagte manier. Hy is van dieselfde gemiddelde lengte as Griessel, maar hy lyk kleiner: skraal en netjies, die swart broek se nate skerp, spierwit dashemp, die skoene blink. Sy peperkorrel-hare is kort, hoekig geskeer, die bokbaardjie onberispelik geknip. Hy’t chirurgiese rubberhandskoene aan. Griessel het hom verlede Donderdag vir die eerste keer ontmoet, saam met die ander vyf speurders vir wie hy in die volgende jaar moet “mentor”. Dit was die woord wat John Afrika, streekkommissaris: Speurdienste en Misdaadintelligensie, gebruik het. Maar toe Griessel alleen in Afrika se Alfredstraat-kantoor gesit het, was dit: “Ons is in die kak, Bennie. Ons het die Lotz-saak opgefok en nou sê topstruktuur dis omdat dit te lekker gaan in die Kaap, ons moet onse vingers uit onse gatte trek, maar wat kan ek doen? Ek verloor my beste mense en die nuwes weet nog niks, hulle is rou. Kan ek op jou reken, Bennie?” En ’n uur later later, in die kommissaris se groot vergaderlokaal met ses van die beste “nuwe” mense wat onbeïndruk in ’n ry op grys staatsdiensstoele sit, toe versag John Afrika die boodskap: “Bennie sal julle mentor wees. Hy’s 25 jaar al in die Mag, hy was lid van die ou Moord en Roof toe die meeste van julle nog op laerskool was. Wat hy al vergeet het, moet julle nog leer. Maar julle moet mooi verstaan: Hy’s nie hier om jou werk vir jou te doen nie. Hy’s jou raadgewer, jou klankbord. En jou mentor. Die woordeboek sê dis …” en die kommissaris het vir ’n oomblik na sy notas verwys, “… a wise and trusted counsellor or teacher. Dis hoekom ek hom Provinsiale Taakspan toe geskuif het. Want Bennie is wise en jy kan hom trust, want ek trust hom. Daar’s te veel kennis wat verlore gaan, te veel nuwe mense en ons hoef nie elke keer die wiel van voor af uit te vind nie. Leer by hom. Julle is met die hand uitgesoek; daar’s nie baie wat die geleentheid gaan kry nie.”
Griessel het na hulle gesigte gekyk. Vier lenige swart mans, een gesette swart vrou en een breedgeskouerde bruin speurder, almal in hul vroeë dertigs. Daar was nie veel gulhartige dankbaarheid nie, met die uitsondering van Vusumuzi (“maar almal noem my Vusi”) Ndabeni. Die bruin speurder, Fransman Dekker, was openlik vyandig. Maar Griessel is al gewoond aan die onderstrominge van die nuwe SAPS. Hy het daar langs John Afrika gestaan en vir homself gesê hy moet dankbaar wees hy het nog ’n pos, ná die ontbinding van die Ernstige en Geweldsmisdaadeenheid. En dat hy en Mat Joubert, sy voormalige bevelvoerder, nie na ’n stasie toe geskuif is soos die meeste van hul kollegas nie. Die fokken nuwe strukture wat nie nuut is nie, dis weer soos dit dertig jaar gelede was, speurders by stasies, want dis hoe hulle dit deesdae in die buiteland doen en nou moet die SAPS dit ook so doen. Maar ten minste het hy nog werk en Joubert het vir hom opgeskryf vir bevordering. As sy geluk hou, as hulle verby sy drinkrekord en die regstellende aksie en al die politiek en kak kan kyk, sal hy vandag hoor of hy kaptein gemaak het. Kaptein Bennie Griessel. Dit klink vir hom reg. En hy het die verhoging nodig. Baie. “Môre, Vusi,” sê hy. “Hei, Bennie,” groet Jimmy, die lang, maer witjas van Forensies. “Ek hoor hulle roep jou nou die ‘Oracle’.” “Soos daai antie in Lord of the Rings,” sê Arnold, die kort dikke. Saam staan hulle in Kaapse polisiekringe bekend as Dik en Dun, gewoonlik in die holgeryde grap van “Forensies sal deur Dik en Dun by jou staan”. “The Matrix, jou aap,” sê Jimmy. “Whatever,” sê Arnold. “Môre,” sê Griessel. Hy wend hom tot die uniforms onder die boom en hy trek sy asem in, reg om vir hulle te sê: “Dis ’n misdaadtoneel; kry julle gatte anderkant die muur,” en dan onthou hy dis Vusi se saak dié; hy moet stilbly en mentor. Hy gee die uniforms ’n vuil kyk wat geen effek het nie en draai na die lyk toe. Die meisie lê op haar maag, haar kop weg van die straat af. Haar blonde hare is baie kort. Op haar rug is twee kort snywonde, horisontaal, eweredig links en regs
op haar skouerblaaie. Maar dit was die gewelddadige sny oor haar keel wat haar dood veroorsaak het, diep genoeg om die slukkanaal te ontbloot. Haar gesig en bors en skouers lê in die wye plas bloed. Die reuk van dood is al teenwoordig, bitter soos koper. “Jissis,” sê Griessel, want al sy vrees en weersin stoot in hom op, en hy moet asemhaal, stadig en rustig, soos dok Barkhuizen vir hom geleer het. Hy moet sy afstand kry, hy moet dit nie internaliseer nie. Hy maak sy oë vir ’n oomblik toe. Dan kyk hy weer op, na die bome. Hy soek objektiwiteit, maar dit is ’n verskriklike manier om dood te gaan. En sy kop wil vir hom die gebeurtenis wys soos dit gebeur, die mes wat flits en so seepglad en diep deur haar weefsel sny. Hy staan vinnig op, gee voor hy kyk rond. Dik en Dun stry oor iets, soos gewoonlik. Hy probeer luister. Here, sy is so jonk. Agttien, negentien? Watter soort waansin vat dit om só ’n kind keelaf te sny? Watter soort perversie? Hy dwing die beelde uit sy kop, dink aan die feite, die implikasies. Sy’s wit. Dit beteken moeilikheid. Dit beteken media-aandag en die hele siklus van misdaadwat-handuit-ruk-beskuldigings wat weer van voor af begin. Dit beteken groot druk en lang ure en te veel mense met vingers in die paai en elkeen wil net sy eie gat beskerm en hy’s nie meer lus vir al die dinge nie. “Dis moeilikheid,” sê hy sag vir Vusi. “Ek weet.” “Dit sal beter wees as die uniforms agter die muur bly.” Ndabeni knik en loop na die uniforms toe. Hy vra hulle om met ’n ompad, agter die kerk om, uit te gaan. Hulle is traag, want hulle wil deel wees van dié ding. Maar hulle loop. Vusi kom staan by hom, notaboek en pen in die hand. “Al die hekke is gesluit. Daar’s ’n motorhek daar anderkant, by die kerkkantoor, en die hoofhek hier voor die gebou. Sy moes oor die traliemuur gespring het; dis die enigste manier om
hier in te kom.” Vusi praat te vinnig. Hy wys met sy vinger na ’n bruin man wat anderkant die muur op die sypaadjie staan. “Die ou daar … James Dylan Fredericks, hy’t haar gekry. Hy’s die day manager van Kauai Health Foods in Kloofstraat. Hy sê hy kom in met Golden Arrow se bus van Mitchells Plain af en dan stap hy van die stasie af. Hy’t hier verbygekom, vyf oor vyf, iets het sy oog gevang. Toe spring hy oor die muur, maar toe hy die bloed sien, toe loop hy terug en bel die Caledonplein-stasie, want dis die nommer wat hy op speed dial het vir die winkel.” Griessel knik. Hy vermoed Ndabeni is senuagtig oor sy teenwoordigheid, asof hy hier is om die swart man te evalueer. Hy sal dit moet regstel. “Ek gaan vir Fredericks sê hy kan maar gaan; ons weet waar om hom te kry.” “Dis goed, Vusi. Jy hoef nie … ek waardeer dit dat jy my die detail gee, maar ek wil nie hê jy moet … jy weet …” Ndabeni raak aan Griessel se arm, asof hy hom gerus wil stel. “Dis O.K., Bennie. Ek wil leer …” Vusi bly ’n oomblik lank stil. Dan voeg hy by: “I don’t want to blow this, Bennie. Ek was in Khayelitsha vir vier jaar, I don’t want to go back. Maar dis my eerste … witte,” versigtig, asof dit ’n rassistiese stelling kan wees. “Hierdie is ’n ander wêreld …” “Dit is.” Griessel is nie goed met dié soort van ding nie, altyd onseker oor waar die regte, politiek-korrekte woorde lê. Vusi red hom: “Ek het probeer voel of daar iets in haar broeksakke is. Vir ’n ID. Maar daar’s niks. Nou wag ons net vir die patoloog.” In die bome sketter ’n voël skerp. Twee duiwe kom land naby hulle en begin dadelik pik-pik. Griessel kyk rond. Daar is een voertuig op die kerkterrein, ’n wit Toyota-mikrobus wat aan die suidekant, teen ’n baksteenmuur van twee meter, geparkeer staan. Die woord Adventure staan in groot rooi letters op die kant daarvan. Ndabeni volg sy oë. “Hulle parkeer seker net hier vir die veiligheid,” en hy beduie na die hoë mure en geslote hekke. “Ek dink hulle het ’n kantoor af in Langstraat.”
“Kan wees.” Langstraat is die hoofkwartier van rugsaktoerisme in die Kaap, jongmense, studente van Europa, Australië en Amerika wat goedkoop blyplek en avontuur soek. Griessel hurk weer by die lyk, maar só dat haar gesig weg van hom af lê, want hy wil nie na die verskriklike wond of haar fyn gelaatstrekke kyk nie. Sy moet asseblief tog nie ’n buitelandse kind wees nie, dink hy. Want dan gaan dinge handuit ruk.
2
Sy het oor die Kloofnek-pad gehardloop en ’n oomblik lank besluiteloos gestaan. Sy wou rus, sy wou haar asem terugkry en die angs probeer beheer. Sy moes besluit: Regs, weg van die stad af, na wat die padpredikant as Camps Bay aandui en wat ook al daardie kant van die berg lê, of links, min of meer terug na van waar sy gekom het. Haar instink was regs, weg, verder weg van haar agtervolgers, van die skrikwekkende gebeure van die nag af. Maar dit is wat hulle sal verwag, dit is wat haar dieper die onbekende sal inneem, verder van Erin af en sy het links gedraai sonder om verder te dink, haar sportskoene luid op die teer se afdraande. Vir 400 meter het sy aan die regterkant van die dubbelbaanpad gehou en toe het sy regs geswaai, afgeskarrel teen ’n klipperige helling, oor ’n lappie veld, na die normaliteit van Higgovale, ’n woonbuurt hier hoog teen die berg, groot, duur huise met digte tuine en hoë mure. Haar hoop het opgevlam; hier sal mense wees wat kan help, wat skuiling en beskerming en hulp kan bied. Die hekke was toe, elke huis ’n fort, die strate verlate so vroeg in die oggend. Die pad het skerp bergop gekronkel, haar bene wou nie meer nie, kon nie meer nie, en toe sien sy die oop hek van die huis regs van haar en haar hele wese het gesmag na rus. Sy het oor haar skouer gekyk en daar was niemand nie. Sy het by die hek ingeswaai. ’n Kort, steil oprit, ’n motorhuis en ’n afdak. Regs was digte struike teen die hoë muur; die huis het links gelê, agter ’n ysterstaafheining en ’n toesluit-traliehek. Sy het in die struike ingekruip tot teen ’n gepleisterde muur, diep, tot heel agter, waar sy onsigbaar van die straat af sal wees. Sy het eers afgesak op haar knieë, met haar rugsak teen die muur. Haar kop hang, sy is doodmoeg, haar oë toe. Toe sak sy verder, sodat sy op haar boude sit. Sy weet die klamheid van die bakstene, die verrottende blare gaan haar blou denimkortbroek bevlek, maar sy gee nie om nie. Sy wil net rus. Sy het in haar kop skielik weer die toneel gesien wat sy meer as ses uur vantevore vasgelê het. Haar liggaam het geruk van skok en sy het haar oë oopgemaak, want sy kan nie nou daaraan dink nie. Dit is té … alles. Deur die
gordyn van diep groen blare en helder, groot rooi blomme het sy ’n motor onder die afdak sien staan en sy het daarop gefokus. ’n Vreemde vorm, slank en elegant en nie nuut nie. Wat sou dit wees, só het sy haar eie aandag van die terreur in haar kop probeer aflei. Haar asem het bedaar, maar nie haar hartklop nie. Uitputting het soos ’n groot gewig op haar gedruk, maar sy het haar teëgesit; sy kon nog nie dié luukse bekostig nie. Om 06:27 hoor sy die gehardloop in die straat, meer as een mens, in dieselfde rigting as wat sy gekom het, en haar hart ruk weer. Sy hoor hoe hulle na mekaar roep daar buite in die straat, in ’n taal wat sy nie verstaan nie. Die voetstappe verlangsaam en word stil. Sy beweeg, effens vorentoe, soek ’n baan deur die blare om te kan sien, kyk stip na die oop hek. Een van hulle staan daar, skaars sigbaar, mosaïekstukke wat wys hy is swart. Sy sit doodstil. Sy sien die mosaïek beweeg. Hy loop by die hek in, geluidloos op sy sportskoensole. Sy weet hy sal sy oë laat soek na die wegkruipplekke, die huis, die motor onder die afdak. Die vae vorm halveer. Buk hy af? Sodat hy onder die motor deur kan sien? Die stukkies wat hom vorm, verdubbel, die buitelyn word groter, hy is besig om nader aan haar te kom. Kan hy haar sien, hier heel agter? “Hey!” Sy skrik vir die stem, ’n hamerslag in haar bors, sy weet nie of sy op daardie oomblik beweeg nie. Die donker figuur beweeg weg, maar sonder haas. “What do you want?” Die stem kom daar van die huis af, bo. Iemand wat met die swart man praat. “Nothing.” “Get the fuck off my property.”
Geen antwoord nie. Hy staan stil, beweeg dan, stadig, traag, tot sy verbrokkelde vorm wegraak deur die blare.
* * *
Die twee speurders deursoek die kerkterrein van die suidekant af. Vusi begin voor, teen die Langstraat-grens met die gepunte barokreling, Griessel agter, teen die hoë baksteenmuur af. Hy loop stadig, tree vir tree, kop omlaag, oë wat heen en weer beweeg. Hy sukkel om te konsentreer, daar is ’n ongemaklikheid in hom, ’n ontwykende ding, vaag en sonder vorm. Maar hy moet nou hiér fokus, op die kaal grond, die graspolle om die bome se stamme, die stukkies teerpaadjie. Hy buk nou en dan om iets op te tel en in sy vingers te hou – ’n prop van ’n bierbottel, twee ringetjies van koeldrankblikkies, ’n geroeste metaalwasser, ’n leë wit plastieksakkie. Tot agter die kerk, waar die straatgeraas skielik gedemp is. Hy kyk op na die toring. Daar is ’n kruis aan die punt. Hoeveel keer het hy al hier verbygery, nooit regtig gekyk nie. Die kerkgebou is mooi, ’n argitektoniese styl waarvoor hy nie ’n naam het nie. Die tuin goed versorg, die groot palmbome, denne en selonsrose hoeveel jare gelede al geplant? Hy loop agter om die kantoorgeboutjie en dan is die straat se geluide weer terug. In die noordelike hoek van die terrein gaan staan hy en kyk op en af in Langstraat. Dis nog die ou Kaap dié, die geboue so half Victoriaans, die meeste net twee verdiepings, sommige nou in helder kleure geverf, seker om vir die jonges aantreklik te wees. Wat is dié vae onrustigheid wat nou in hom lê? Dis nie oor gisteraand nie. Dis nie die ander ding wat hy al ’n twee, drie weke lank ontwyk nie, oor Anna en terugtrek en of dít hoegenaamd gaan werk. Is dit die mentorkwessie? Om op ’n moordtoneel te kom staan, jy mag kyk, maar jy mag nie vat nie? Hy gaan sukkel, dit weet hy nou. Of miskien moet hy net iets te ete kry. Hy kyk suid, na die Oranjestraat-kruising. Net voor sewe op ’n Dinsdagoggend en die straat is besig – motors, busse, taxi’s, bromponies, voetgangers. Die
energieke gewoel van middel-Januarie, die skole wat heropen, vakansies verby, vergete. Op die sypaadjie het die moordtoeskouers aangegroei tot ’n klein skare. Twee persfotograwe het ook aangekom, kamerasakke oor die skouers, lang lense soos wapens voor hulle. Hy ken die een, ’n drinkebroer uit sy suipdae, wat jare vir die Cape Times gewerk het en nou vir ’n poniekoerant sensasie jag. Wat een aand in die Fireman’s Arms gesê het as jy die polisie en die media vir ’n week op Robbeneiland toesluit, stort die drankbedryf van die Kaap in duie. Hy sien ’n fietsryer wat behendig deur die verkeer vleg, ’n resiesfiets, die onmoontlike dun wiele, die ryer in ’n stywe swart broekie, helder, kleurvolle hempie, die skoene, die valhelm, die fokker het selfs hand-skoene aan. Sy oë volg die fiets tot by die verkeerslig van Oranjestraat met die wete dat hy nooit só belaglik wil lyk nie. Hy voel al klaar simpel genoeg met net die pispot-helm op sy kop. Hy sou dit nie eens gedra het as hy dit nie verniet saam met die fiets gekry het nie. Dok Barkhuizen, sy borg by Alkoholiste Anoniem, het die hele ding begin. Griessel het uit frustrasie vir dok gesê die verlange na die bottel word nie minder nie, want die eerste drie maande was lankal verby, die sogenaamde krisisperiode, en sy smagting was nog net so groot soos die eerste dag. Toe resiteer dok die “dag op ’n slag”-rympie en Griessel sê hy het meer as dít nodig en dok sê: “Jy moet afleiding kry; wat maak jy saans?” Saans? ’n Poliesman hét nie ’n “saans” nie. En wanneer hy wel wonder bo wonder vroegaand by die woonstel aankom, dan skryf hy vir sy dogter, Carla, of hy sit een van sy vier CD’s in die rekenaar en hy vat die baskitaar en speel saam. “Saans is ek besig, dok. “En soggens?” “Ek stap partykeer in die park. Daar bo by die reservoir.” “Hoe gereeld?” “Ek weet nie. Nou en dan. Een keer per week, miskien minder …” Die probleem met dok is dat hy welsprekend is. En geesdriftig. Oor alles. Een van daardie positiewe “die glas is halfvol”-ouens wat nie rus kry voor hy jou
geïnspireer het nie. “Ek het so vyf jaar gelede begin fietsry, Bennie. My knieë hou nie van draf nie, maar die fiets is sag op ’n ou man se ledemate. Ek het stadig begin, vyf, ses kilo’s ’n dag. En toe begin die ding my vang, want dis lekker. Die vars lug, die reuke, die son, jy vóél die hitte en die koue, jy sien dinge uit ’n ander perspektief, want jy beweeg teen jou eie tempo, dis asof jou wêreld tot ruste kom. Jy’t tyd om te dink …” Toe raak hy hier ná dok se derde toespraak meegevoer en gaan soek einde Oktober vir hom ’n fiets. Op sy gewone manier: Bennie Griessel, Bargain Hunter, soos sy tienerseun, Fritz, hom versigtig spot. Eers die pryse van nuwe goed gaan navors by die winkels en twee dinge agtergekom – hulle is belaglik duur, en hy hou meer van die bonkige bergfietse as die maer moffie-resiesgoed. Toe gaan kyk hy by pandjieswinkels, maar alles is afgeleef, goedkoop Makrogemors, selfs toe dit nuut was. Toe kyk hy in die Cape Ads en hy sien die advertensie – blommerige taal oor ’n Giant Alias, 27 ratte, superligte aluminiumraam, Shimano shifter en skyfremme, ’n gratis saalsakkie met gereedskap, gratis valhelm en “just one month old, original price R7 500, upgrading to DH”, wat die eienaar later vir hom oor die telefoon sê staan vir Downhill, asof hy presies sal weet wat dit beteken. En toe dink hy wat de fok, R3 500 is ’n helse bargain, en wat het hy die afgelope ses maande vandat sy vrou hom uit die huis uit geskop het vir homself gekoop? Niks. Net die sitkamerstel by Mohammed “Love Lips” Faizal se pandjieswinkel in Maitland. En die yskassie. En die baskitaar wat hy vir Fritz vir Kersfees wou gee, nog ’n Faizalwinskoop wat hy toevallig in September al raakgeloop het. Dis al. Noodsaaklike goed. Jy kan nie die skootrekenaar tel nie, want hoe anders moet hy met Carla kontak hou? Toe dink hy nie aan Kersfees en al die uitgawes wat nog voorlê nie. Hy stry die fietseienaar met nog tweehonderd rand af en hy gaan trek die geld en hy gaan koop die ding en hy begin soggens ry. In sy ou rugbybroek en T-hemp en sandale en die koddige fokken valhelm en hy kom agter hy bly nie op die perfekte plek vir fietsry nie. Die woonstel is kwartpad teen Tafelberg se hang op. As jy afry see toe, moet jy terug op teen die bult. Of jy kan eers op ry, Kloofnek se kant toe, om later die af te geniet, maar ly sal jy ly. Hy’t dit amper ná ’n week gelos. Tot dok Barkhuizen vir hom die raad van “vyf minute” gegee het. “Dis my strategie, Bennie. As ek nie lus is nie, sê ek vir myself: ‘Net vyf minute.’ As ek dan nie verder wil ry nie, draai ek om en ek kom terug.”
Hy het dit probeer – en nie een keer omgedraai nie. As jy eers aan die gang is, dan gaan jy aan. En einde November, toe raak dit skielik vir hom lekker. Hy het ’n roete gekry waarvan hy hou – net ná ses in die oggend, af met St. Johnsstraat, wederregtelik deur die Kompanjiestuin, voor die oorgretige sekuriteitswagte op diens is. Dan vat hy Adderley en hy waai vir die blommeverkopers by die Goue Akker wat voorraad van die bakkies aflaai en hy ry tot heel onder in Duncanstraat by die hawe, kyk watter skepe vandag by die kaai lê. Dan ry hy deur die Waterkant Groenpunt toe – en al langs die see af tot by Seepunt se swembad. En hy kyk vir die see en die berg en die mense, die mooi, jong, drawwende vroue met lang, sonbruin bene en wippende borste, pensionarisse wat doelgerig stap, ma’s met babas in stootkarretjies, ander fietsryers wat hom groet, ondanks sy primitiewe kleertjies. En dan draai hy om en hy ry terug, sestien kilometer in totaal en dit het hom goed laat voel. Oor homself. Oor dié stad, wat hy vir so lank net van die gatkant af gesien het. En oor sy slim aankoop. Toe kom sy seun, Fritz, twee weke voor Kersfees en sê nee, hy’t besluit bass is nie meer vir hom nie, hy wil kitaar speel. “Lead guitar, Pa, jissie, Pa, ons het Vrydagaand vir Zinkplaat gesien, daar’s hierdie lead, Basson Laubscher, awesome, Pa. Effortless. Genius. Dis my droom, Pa.” Zinkplaat. Hy’t nie eens geweet daar bestaan só ’n orkes nie. Dít nadat Griessel al amper twee maande lank die baskitaar wegsteek wat eintlik Fritz se Kersgeskenk moes wees. Toe moes hy weer met Hot Lips Faizal gaan praat, wat op dié kort kennisgewing net een kitaar gehad het, ’n fokken Fender, omtrent nog splinternuut en net so duur. En wat jy vir Fritz gee, moet jy vir jou dogter, Carla, ook stuur in Londen en toe’s hy skielik finansieel in sy moer in, want Anna laat hom onderhoud betaal soos ’n geskeide man en die manier hoe sy haar berekeninge gedoen het, is vir hom duister en hy het ’n sterk vermoede hy word gemelk, hy word geboor, want sy verdien goeie geld as assistent by die prokureurs. Maar as hy sy bek oopmaak, sê sy: “Jy het geld vir drank gehad, Bennie, dit was nooit ’n probleem nie …” Die morele hoë grond. Sy het dit en hy nie. Daarom moet hy betaal. Dis deel van sy straf. Maar dis nie die ding wat nou hier in sy buik draai nie.
Griessel sug en begin aanstap, terug na die moordtoneel toe. En as sy kop fokus op die groeiende skare van omstanders wat beheer sal moet word, herken hy skielik die nuwe onrustigheid hier binne. Dit is nie sy seksdade, sy finansies of die honger nie. Dit is ’n voorgevoel. Asof dié dag ’n onheil in hom het. Hy skud sy kop. Hy’t hom nog nooit aan sulke twak gesteur nie.
* * *
Die Metro-polisiemanne help met ywerige hande om ’n jong bruin vrou in ’n wit baadjie oor die skerp traliewerk van die muur te kry. Sy neem haar tas, knik haar kop in dank en kom na Griessel en Ndabeni aangestap. Hulle ken haar nie. “Tiffany October,” sê sy en steek ’n klein handjie na Bennie uit. Hy sien dit bewe effens. Sy het ’n smal swartraambril op. Onder die grimering is spore van aknee. Sy is skraal, tengerig onder die wit baadjie. “Bennie Griessel,” sê hy en beduie na die speurder langs hom. “Dit is inspekteur Vusumuzi Ndabeni. Dis sy toneel.” “Noem my Vusi.” “Aangename kennis,” sê sy en skud die swart speurder se hand. Hulle kyk vraend na haar. Sy snap skielik: “Ek’s die patoloog.” “Jy’s nuut?” vra Vusi ná ’n ongemaklike stilte. “Dis my eerste solo.” Tiffany October glimlag senuagtig. Dik en Dun van Forensies kom nuuskierig nader om haar te ontmoet. Sy skud elkeen se hand hoflik. “Is julle klaar?” vra Griessel ongeduldig. “Ons moet nog die paadjie en muur doen,” sê Jimmy, die skraal een. Hy kyk vir
sy korter kollega. “Bennie is nie ’n morning person nie.” Griessel ignoreer hulle. Altyd iets te sê. Tiffany October kyk af na die liggaam. “Ai,” sê sy. Die speurders sê niks nie. Hulle kyk net vir haar terwyl sy haar tas oopmaak, handskoene uithaal en by die meisie kniel. Vusi kom nader. “Bennie, ek het vir die fotograaf gevra om foto’s te neem wat … nie die skade wys nie. Van haar gesig. Ek wil dit rondwys hier in Langstraat. Ons moet haar identifiseer. Miskien die foto’s vir die media ook gee. ” Griessel knik. “Goeie idee. Maar jy moet druk op die fotograaf sit. Hulle is stadig …” “Ek sal.” Ndabeni buk af na die patoloog toe. “Dokter, as jy so min of meer kan sê hoe lank sy al dood is …” Tiffany October kyk nie op nie. “Dis te vroeg …” Griessel wonder waar prof. Phil Pagel, die hoofpatoloog, vanoggend is. Pagel sou daar gesit het en vir hulle ’n skatting gegee het wat binne dertig minute van die werklike tyd van dood was. Hy sou ’n vingerpunt in die bloedplas gedoop het, hier gevat en daar aan die lyk gedruk het en gesê het dit is die klein spiertjies wat eerste rigor mortis wys en hy dink sy’s so min of meer sus of soveel uur al dood, hy sal dit later bevestig. Maar Tiffany October het nie Pagel se ervaring nie. “Gee ons net ’n raaiskoot,” sê Griessel. “Ek kan regtig nie.” Sy’s bang om ’n fout te maak. Griessel loop tot teen Vusi en praat sag, naby sy oor, sodat sy nie kan hoor nie. “Sy lê al lank, Vusi. Die bloed is al swart.” “Hoe lank?”
“Ek weet nie. Vier uur … of meer. Vyf.” “O.K. So ons sal moet wikkel.” Griessel knik. “Kry daardie foto’s vinnig. En praat met die Metro-mense, Vusi. Hulle het videokameras wat die strate monitor – in Langstraat ook. Kom ons hoop die goed het gewerk, laas nag. Die beheerkamer is in Waal. Miskien is daar iets …” “Dankie, Bennie.”
* * *
Sy raak aan die slaap, teen die muur agter die struike. Sy wou net ’n oomblik lank rus. Sy het haar oë toegemaak en met haar rugsak teen die muur teruggesak en haar bene voor haar uitgestrek, wou net vir ’n oomblik aan die uitputting en spanning probeer ontkom. Die nag se gebeure was demone in haar kop. Om dit te ontvlug, het sy aan haar ouers gedink, hoe laat dit nou by die huis is, die berekening van tydsones te veel vir haar. As dit vroegoggend in West Lafayette was, sou haar pa met die koerant, die Journal & Courier, gesit het en sy kop geskud het oor Purdue-voetbalafrigter Joe Tiller se uitlatings. Haar ma sou laat gewees het, soos altyd, haar hakke wat teen die trappe af kletter, oorhaastig, die verslete bruin leertas oor haar skouer, “I’m late, I’m late, how can I be late again?” Haar pa sou sy koerant laat sak, “It’s a mystery, honey,” sê en sy en haar pa sou hul rituele glimlag oor die kombuistafel heen daaroor deel. Dié roetine, dié geborgenheid, die veiligheid van haar ouerhuis oorweldig haar met ’n verskriklike verlange en sy wil hulle bel, op daardie oomblik, hul stemme hoor, vir hulle sê hoe lief sy hulle het. Sy het dié denkbeeldige gesprek gevoer, met haar pa wat sag en rustig antwoord, tot die slaap haar bekruip en oorval het.
3
Dr. Tiffany October roep hulle: “Inspekteur …” “Ja?” “Ek kan ’n bietjie spekuleer …” Griessel wonder of sy hom gehoor praat het netnou. “Enigiets kan help …” “Ek dink sy is hier dood, op die toneel. Die bloedpatroon wys hy het haar keel afgesny terwyl sy hier gelê het. Ek dink hy het haar op die grond platgehou, so, op haar maag, en toe sny hy haar. Daar is nie spatmerke wat wys sy het gestaan nie.” “O …” Dit het hy al vir homself uitgewerk. “En hierdie twee snye …” Sy wys na die twee snye op die meisie se skouerblaaie. “Ja? “Dit lyk of dit post mortem uitgevoer is.” Hy knik. “Dit lyk na vesels hier …” Dr. October het ’n klein metaalknyper waarmee sy versigtig by die rugwond werk. “Sintetiese materiaal, ’n donker kleur, heeltemal anders as haar klere …” Ndabeni kyk na die forensiese span, wat nou gebukkend met die paadjie afloop, koppe bymekaar, oë soekend, monde nooit stil nie. “Jimmy,” roep hy, “hier’s iets vir julle …” Dan gaan buk hy by die patoloog.
Sy sê: “Ek dink hy het iets van haar rug afgesny. Soos ’n rugsak, jy weet, die twee skouerbande …” Jimmy kom kniel langs hulle. Tiffany October wys vir hom die vesels. “Ek sal wag tot julle dit versamel het.” “O.K.,” sê Jimmy. Hy en sy kollega haal instrumente uit om die vesels te versamel. Hulle sit ’n vorige gesprek voort, asof daar geen onderbreking was nie: “Ek sê jou dis Amore.” “Dis nie Amore nie, dis Amor,” sê dik Arnold en haal ’n klein, deurskynende plastieksakkie uit sy tas. Hy hou dit reg. “Waarvan praat julle?” vra Vusi. “Joost se vrou.” “Joost wie?” “Van der Westhuizen.” “Wie’s dit?” “Die rugbyspeler.” “Hy was Springbok-kaptein, Vusi.” “I’m more of a soccer guy.” “Anyway, sy’t hierdie paar …” Arnold wys met sy hande om groot borste aan te dui. Tiffany October kyk weg, geaffronteer. “I’m just stating a fact,” sê Arnold, verdedigend. Jimmy trek die vesels versigtig met ’n tangetjie uit die meisie se wond. “Haar naam is Amore,” sê hy. “Dis Amor, ek sê jou. En toe klim hierdie ou mos op die stage saam met haar …” “Watter ou?” vra Vusi.
“Ek weet nie, dit was ’n ou wat na een van haar shows gaan kyk het. En hy gryp die mikrofoon en hy sê: ‘Jy’t die mooiste tiete in die business,’ so sê hy vir Amor, en toe is Joost vreeslik die moer in.” “Shows? Sy gee shows?” vra Griessel. “Jissis, Bennie, lees jy nie Huisgenoot nie? Sy’s ’n sangeres.” “Toe gryp Joost hom ná die tyd en hy sê: ‘Jy kan nie so met my vrou praat nie’ en die ou sê vir hom: ‘Maar sy hét mooi tiete’ …” Arnold lag uitbundig. Jimmy he-he saam. Tiffany October vervies haar en loop na die muur se kant toe. “Wat?” sê die korte verontskuldigend vir haar. “Dis ’n ware storie …” “Praat liewer van ‘borste’,” sê Jimmy. “Maar dis wat die ou gesê het.” “Nou hoekom het Joost hom nie gemoer nie?” “Dis wat ek ook wil weet. Hy’t vir Jonah Lomu getackle dat die spoeg spat, hy breek booms by hekke af as hy die moer in is, maar hy klap nie ’n ou wat oor sy vrou se t … borste praat nie.” “Let’s be reasonable, hoe gaan hy by ’n landdros verbykom met daai een? Die ou se prokureur gaan net ’n pak Huisgenote uitpluk en sê: ‘Edelagbare, kyk hier, op elke kiekie kan jy die werke sien, van Pramberg tot in Koekenaap.’ Dan moet ’n man mos weet, die ouens gaan oor jou vroutjie se assets praat of dit hulle s’n is.” “Is so. Maar ek sê jou, dis Amor.” “Not ’n fok.” “Jy dink aan Amore Bekker, die DJ.” “Nee, issie waar nie. Maar een ding sê ek vir jou: Ek sal nie my vrou só laat rondloop nie.” “Jou vrou het nie die mooiste tiete in die business nie. If you’ve got it, flaunt it
…” “Is julle klaar?” vra Bennie. “Ons moet nog die paadjie klaarmaak en die muur doen,” sê Jimmy en staan op. Vusi roep die fotograaf nader. “Hoe gou sal ek my gesigfoto’s kan kry?” Die fotograaf, jonk met lang krulhare, haal sy skouers op. “Ek sal kyk wat ek kan doen.” Sê vir hom sy moer, dink Griessel. Maar Vusi knik net. “Nee,” sê Griessel. “Ons soek dit voor agt. Dis nie onderhandelbaar nie.” Die fotograaf het ’n houding aan hom as hy wegstap muur toe. Griessel kyk hom vies agterna. “Dankie, Bennie,” sê Vusi sag. “Jy moet hardegat wees, Vusi.” “Ek weet …” Ná ’n ongemaklike stilte vra hy: “Wat mis ek, Bennie?” Griessel hou sy stem sag, raadgewend. “Die rugsak. Dit moes roof gewees het, Vusi. Haar geld, haar paspoort, haar selfoon …” Ndabeni snap gou. “Jy dink hulle het die rugsak iewers gegooi.” Griessel kan nie meer so rondstaan nie. Hy kyk om, na die sypaadjie, waar die toeskouers nou begin handuit ruk. “Ek sal dit hanteer, Vusi, kom ons gee die Metro-mense iets om te doen.” Hy loop tot teen die muur en roep na die uniforms. “Wie’s in beheer hier?” Hulle kyk vir mekaar. “Die sypaadjie is ons s’n,” sê ’n bruin Metro-polisieman met ’n indrukwekkende uniform, rangtekens net waar jy kyk. Seker ’n veldmaarskalk, dink Griessel. “Julle s’n?” “Dis reg.”
Hy wil hom vererg, want hy het ’n probleem met die hele idee van die stadspolisie, fokken spietkops wat nie hulle werk doen nie, almal maak net wat hulle wil op die paaie. Hy hou hom in en wys met ’n vinger na ’n SAPSkonstabel: “Ek wil hê julle moet dié sypaadjie afkamp, van daar onder af tot hier bo. As die mense wil staan, kan hulle anderkant die pad staan.” Die konstabel skud sy kop. “Ons het nie tape nie.” “Dan gaan háál jy tape.” Die SAPS-man hou nie daarvan om die uitverkorene te wees nie, maar hy draai om en loop deur die skare. ’n Ambulans kom van sy linkerkant af aangesukkel deur die mense. “Dis ons sypaadjie,” sê die swaarberangde Metro-poliesman moedswillig. “Is jy die hoofman hier?” vra Bennie vir hom. “Ja.” “Wat is jou naam?” “Jeremy Oerson.” “En die sypaadjies is julle jurisdiksie?” “Ja.” “Perfek,” sê Griessel. “Sorg dat die ambulans hier kom parkeer. Net hier. En dan wil ek hê julle moet elke sypaadjie en stegie begin inspekteer binne ses blokke van hier af. Die slagoffer het ’n rugsak gehad en ons soek daardie rugsak. Elke asdrom, elke hoek en draai, verstaan jy?” Die man kyk vir hom, lank. Seker besig om aan die implikasies te dink as hy weier. Dan knik hy, nors, en begin vir sy mense bevele blaf. Griessel draai om en loop terug na Vusi toe. “Julle beter hier kom kyk,” roep die patoloog van waar sy by die lyk buk. Hulle gaan staan by haar. Sy hou ’n klere-etiket met ’n knyptangetjie vas, die een
wat agter aan die meisie se kamisool is. “Broad Ripple Vintage, Indianapolis,” sê sy en kyk betekenisvol vir hulle. “Wat beteken dit?” vra Vusi Ndabeni. “Ek dink dis van Amerika,” sê sy. “Fok,” sê Bennie Griessel. “Is jy seker?” Tiffany October se oë rek effens oor sy taalgebruik en haar stemtoon beaam dit: “Redelik seker.” “Trouble,” sê Ndabeni. “Big trouble.”
07:02 – 08:13
4
In die biblioteek van die groot huis in Brownlowstraat, Tamboerskloof, ruk die hoë, vreesbevange gille van haar huishulp vir Alexandra Barnard uit die slaap. Dit is ’n surrealistiese oomblik. Sy weet nie waar sy is nie, haar ledemate voel vreemd, stram, ongemaklik, haar kop dik, haar gedagtes soos koue molasse. Sy lig haar kop, probeer haar oë fokus. Sy sien die gesette bruin vrou by die deur, die mond verwring in wat sy eers as afsku eien, die geluid wat deur murg en been dring. Alexandra besef sy lê op haar rug op die Persiese tapyt en sy wonder hoe sy hier gekom het. Terwyl sy bewus raak van die walglike smaak in haar mond en die feit dat sy die nag besope op die vloer deurgebring het, volg sy die oë van Sylvia Buys: Iemand lê langs die groot bruin leerstoel oorkant haar. Sy druk met haar arms om orent te kom, sy wens Sylvia wil ophou skree, sy kan nie onthou dat iemand gisteraand saam met haar gedrink het nie. Wie sal dan daar lê? Sy sit regop, haar perspektief nou beter, sodat sy die figuur herken. Adam. Haar man. Hy het net een skoen aan, die ander voet in ’n sokkie wat hang, asof hy besig was om dit uit te trek. Swart broek, wit hemp, swart besmeer hier op sy bors. En dan, asof iemand die fokus van ’n kamera eindelik instel, besef sy Adam is beseer. Die swart op sy bors is bloed, die hemp stukkend. Sy druk met haar hande op die tapyt om op te staan, verward, verstom. Sy sien die bottel en die glas op die houttafeltjie langs haar. Haar vingers druk op iets en sy kyk en sy sien die vuurwapen wat hier by haar lê. Sy herken dit, Adam se pistool. Wat doen dit hier? Sy staan op. “Sylvia,” sê sy. Die bruin vrou hou aan met skree.
“Sylvia!” Die stilte is meteens ’n verskriklike verligting. Sylvia staan by die deur, haar hande nou teen haar mond, haar oë vasgenael op die pistool. Alexandra Barnard loop ’n versigtige twee tree vorentoe en staan dan stil. Adam is dood. Sy besef dit nou, die somtotaal van die wonde en die manier hoe hy lê, maar sy verstaan dit nie, droom sy? “Vir wat?” sê Sylvia half histeries by die deur. Alexandra kyk na haar. “Vir wat het jy hom doodgemaak?”
* * *
Die patoloog en twee ambulansmanne manipuleer die lyk met groot sorg in ’n swart toerits-sak in. Griessel sit op die kliprand van ’n palmboom se bedding. Vusi Ndabeni is op sy selfoon besig met die stasiebevelvoerder. “I need at least four, Sup, for leg work … I understand, but it’s an American tourist … Yes, we’re pretty sure … I know … I know. No, nothing yet … Thanks, Sup, I’ll wait for them.” Hy stap na Bennie toe. “Die SB sê daar’s vanoggend ’n protest van die een of ander labour union by die parlement en hy kan my net twee mense gee.” “Daar’s altyd ’n fokken protest van die een of ander labour union,” sê Griessel en staan op. “Ek sal help met die voetwerk, Vusi, sodra die foto’s kom.” Want hy kan nie so rondsit nie. “Dankie, Bennie. Wil jy koffie hê?” “Gaan jy iemand stuur?” “Daar’s ’n plek hier onder in die straat, ek loop gou.”
“Nee, laat ek gaan haal.”
* * *
Hulle staan die Caledonplein-aanklagkantoor vol, die klaers, die slagoffers, die getuies en meelopers met stories van die nag wat verby is. Bo die see van protesterende en beskuldigende stemme lui ’n telefoon lank en eentonig. ’n Vrouesersant, gedaan ná nege uur op haar voete, ignoreer die volgende fronsende gesig aan die anderkant van die toonbank en gryp die instrument. “Caledon Square, sergeant Thanduxolo Nyathi speaking, how may I help you?” ’n Vrouestem wat praat, onhoorbaar sag. “You’ll have to speak up, madam, I can’t hear you.” “I want to report something.” “Yes, madam?” “There was this girl …” “Yes, madam?” “This morning, at about six o’clock, on Signal Hill. She said I must call the police because someone wants to kill her.” “One moment, madam.” Sy trek ’n SAPS-vorm nader en trek ’n pen uit haar hempsak. “May I have your name?” “Well, I just want to report it …” “I know, madam, but I need a name.” Stilte. “Madam?”
“My name is Sybil Gravett.” “And your address?” “I really can’t see how this is pertinent. I saw the girl on Signal Hill. I was walking my dog.” Die sersant onderdruk ’n sug. “And then, what happened, madam?” “Well, she came running up to me and she said I must call the police, someone is trying to kill her, and then she ran off again.” “Did you see anybody following her?” “I did. A few minutes later, they came running.” “How many, madam?” “Well, I didn’t count them, but there must have been five or six.” “Can you describe them?” “They were, well, some were white and some were black. And they were quite young … I found that very disturbing, these young men, running with such intent …”
* * * Sy word met ’n ruk van haar lyf wakker as iemand vir haar skree. Sy wil in haar paniek orent kom, maar haar bene verraai haar sodat sy struikel en met haar skouer teen die muur val. “You’re fucking drugged.” Hy staan anderkant die struike met sy hande op sy heupe, dieselfde stem wat vroeër van die huis af geskree het. “Please,” smeek sy en staan op. “Just get off my property,” sê hy met ’n vinger wat hek toe wys. “What is it with you people? Snoring in my shrubs.”
Sy vind haar pad deur die plante. Sy sien hy het ’n donker pak klere aan, ’n sakeman, middeljarig, woedend. “Please, I need your help …” “No. You need to shoot up somewhere else. I’m sick and tired of this. Get out.” Sy begin huil. Sy loop tot by hom. “It’s not what you think, please, I’m from the United …” Die man vat haar arm en ruk haar hek toe. “I don’t give a fuck where you are from.” Hy trek haar, hardhandig. “All I want, is that you people stop using my property for your filthy habits.” By die hek stamp hy haar, pad se kant toe. “Now fuck off, before I call the police,” sê hy, draai om en loop na sy huis toe. “Call them, please,” sê sy deur die snikke, haar skouers ruk, haar lyf bewe. Hy hou aan met loop, maak ’n traliehek oop, klap dit toe en verdwyn. “Oh, God.” Sy staan en huil op die sypaadjie; haar hele lyf bewe. “Oh, God.” Deur die trane kyk sy instinktief in die straat af, eers links, dan regs. Daar bo, net voor die pad oor die berg se flank krul, staan twee van hulle. Klein, wagtende figuurtjies, een met ’n selfoon teen die oor. Sy skrik en begin aanstap, in die teenoorgestelde rigting, die een waaruit sy vroeër gekom het. Sy weet nie of hulle haar gesien het nie, sy hou links, teen die mure van die huise, kyk oor haar skouer. Hulle staan nie meer nie. Hulle hardloop, na haar toe. Wanhoop rem aan haar. Uitkoms is om te gaan staan, sodat dit alles kan verbykom, die onvermydelike. Sy kan nie aanhou nie, sy het nie meer krag nie. Vir ’n oomblik is dit ’n byna onweerstaanbare opsie, ’n perfekte uitweg, sodat sy haar pas vertraag. Dan sien sy in haar kop vir Erin in die nag en die adrenalien vloei en sy hardloop en sy huil.
* * *
Die ambulansmanne tel die lyk op ’n draagbaar oor die muur as Griessel met die koffie aankom. Die omstanders bondel nader, tot teenaan die geel misdaadband wat die sypaadjie toespan. Griessel wonder lank-al nie meer oor mense se makabere belangstelling in die dood nie. Hy gee een polistireenbeker aan sy
kollega. “Dankie, Bennie.” Die reuk van koffie herinner Griessel daaraan dat hy nog nie ontbyt gehad het nie. Miskien kan hy gou teruggaan woonstel toe vir ’n vinnige bord WeetBix voor die foto’s kom, dis net ’n kilometer weg. En kyk of Carla vir hom geskryf het. Want gisteraand … Nee, hy gaan nie nou oor gisteraand dink nie. Vusi sê iets in Xhosa wat hy nie verstaan nie, ’n aanduiding van verbasing. Hy volg die swart speurder se blik en sien drie van die Metro-polisiemanne wat oor die muur klim. Oerson, die een met wie Griessel vroeër ’n onderonsie gehad het, dra ’n blou rugsak in sy hand. Hulle kom vol bravade aangestap. “uNkulunkulu,” sê Vusi. “Fok,” sê Bennie Griessel. “Ons het hom gekry,” sê die veldmaarskalk selftevrede en hou die rugsak na Vusi uit. Die Xhosa skud sy kop, trek weer sy rubberhandskoene uit sy sak. “Wat?” sê Oerson. “Volgende keer,” sê Griessel in ’n redelike stem, “sal dit beter wees as julle vir ons laat weet julle het dit gekry. Dan bring ons die forensiese mense en ons kamp die area af voor iemand daaraan vat.” “Dit het in ’n fokken doorway gelê in Bloemstraat. ’n Duisend mense kon al daaraan gevat het. Daar’s in elk geval nie veel in nie.” “Jy het dit oopgemaak?” vra Vusi as hy die rugsak vat. Die twee rugbande is deurgesny, net soos die patoloog voorspel het. “Daar kon ’n bom in gewees het,” sê Oerson verdedigend. “Het jy aan dié goed gevat?” vra Vusi en haal ’n grimeersakkie uit. Hy buk af,
sodat hy die inhoud op die teerpaadjie kan uitpak. “Nee,” sê Oerson, maar Griessel weet hy lieg. Vusi pak ’n Steersservet uit die rugsak, dan ’n klein houtbeeldjie van ’n seekoei in donker hout, ’n wit plastieklepel en ’n Petzl-kopflits. “Dis al?” “Dis al,” sê Oerson. “Sal julle my ’n guns doen, asseblief?” Hulle antwoord nie. “Kan julle weer soek, en kyk of daar nie ander goed is nie? Dalk iets wat iemand uitgegooi het. Enigiets. Wat ek die graagste wil hê, is enige vorm van identifikasie. ’n Paspoort, ’n rybewys, enigiets …” Oerson is nie geesdriftig nie. “Ons kan julle nie die hele dag help nie.” “Ek weet,” sê Vusi sag en geduldig. “Maar as julle nog net dit kan doen, asseblief.” “O.K. Ek sal nog mense kry,” sê Oerson. Hulle draai om, klim oor die muur. Vusi se vingers soek in die paar klein sakkies aan die kante van die rugsak. In die eerste kry hy niks nie. Diep onder uit die tweede trek hy iets – ’n groen kartonkaartjie met ’n swart-en-geel logo daarop: Hodsons Bay Company. In kleiner skrif: Bicycles, fitness, backpacking, camping, climbing gear, and technical clothing for all ages and abilities. Met ’n adres: 360 Brown Street, Levee Plaza, West Lafayette, IN 47906. Daar is twee telefoonnommers ook by. Die Xhosa bestudeer dit aandagtig en wys dan vir Griessel. “Ek dink die IN staan vir Indiana.” “West Lafayette,” sê Griessel, nadenkend. “Seker ’n klein plekkie,” sê Vusi. “Ek het nog nooit daarvan gehoor nie.” “Faks vir hulle ’n foto, Vusi. Miskien kan hulle haar identifiseer.” “Great idea.”
Griessel se selfoon lui skerp in sy sak. Hy haal dit uit en antwoord. “Griessel.” “Bennie, dis Mavis. Hier het ’n inspekteur Fransman Dekker gebel. Hy sê ek moet vir jou laat weet hulle het ’n moord by Brownlowstraat 47 in Tamboerskloof, as jy wil kom mentor.” “As ek wil?” “Dis wat hy gesê het. Klink na ’n windgat.” “Dankie, Mavis. Brownlow 47?” “Dis reg.” “Ek is op pad.” Hy beëindig die oproep en sê vir Vusi. “Nog ’n moord. Hier bo in Tamboerskloof. Ek’s jammer, Vusi …” “No problem. Ek bel jou as ons iets kry.” Griessel begin aanstap. Ndabeni roep agterna: “Bennie …” Griessel draai om. Vusi kom nader gestap. “Ek wou jou net gevra het … Ek … e …” “Vra, Vusi.” “Die patoloog … Sy … Dink jy … Sal ’n coloured doctor met ’n darkie poliesman wil uitgaan?” Dit neem hom ’n paar sekondes om die sprong te maak. “Ek … jy vra die verkeerde ou … ja wat, Vusi, hoekom nie? ’n Ou kan net probeer …” “Dankie, Bennie.” Griessel klim oor die muur. By die kerkterrein se hek sien hy ’n lang, somber man wat die slot oopsluit met ’n baie bekommerde frons. Die dominee het aangekom, dink hy, of noem hulle Lutherse predikante iets anders?
5
Die verkeer is nou onmoontlik. Net om van Langstraat tot in Buitengracht te kom, neem hom 15 minute. Teen Buitensingel se bult op staan hulle buffer teen buffer. Hy drink die laaste van die soet koffie. Dit sal hom hou tot hy iets te ete kry. Maar sy plan om Carla se e-pos gou te gaan aflaai, is nou daarmee heen. Dit sal seker moet wag tot vanaand toe. Hy is nou al ’n week van lyn af met die verdomde rekenaar; hy kan seker tot dan toe wag. Carla sal verstaan, want hy het van die begin af moeilikheid met die blikbrein gehad. Hoe moes hy weet jy kry skootrekenaars wat nie ingeboude modems het nie? Hy’t die ding op ’n polisieveiling van onopgeëisde gesteelde goedere gekoop vir ’n helse winskoop ’n week nadat sy dogter Londen toe vertrek het. Want hy wou weet hoe dit met haar gaan, sy Carla, wat “eers haar kop oorsee wil gaan skoon kry” voor sy besluit wat om met die res van haar lewe te doen. Hoe kry jy jou kop skoon as jy vloere stofsuig in ’n hotel in Londen? Dit het hom R500 gekos om die rekenaar aan die Internet gekoppel te kry, want hy moes ’n modem gaan koop en ’n Internet-diensverskaffer kry en drie uur lank met ’n mannetjie oor die telefoon praat net om die ding se konneksie reg te kry en toe wil Microsoft Outlook Express nie werk nie, nog ’n uur op die telefoon om dit opgelos te kry voor hy ’n e-pos vir Carla kan stuur om te sê Hier is ek, hoe gaan dit met jou? Ek verlang na jou en ek bekommer my oor jou. Daar was ’n artikel in Die Burger wat sê die Suid-Afrikaanse kinders in Londen drink baie en maak moeilikheid. Jy moet jou nie laat beinvloed nie … Dis hoe hy uitgevind het dat om ’n kappie op ’n skootrekenaar se “e” te sit is net omtrent onmoontlik en hy het heeltemal moed opgegee met die deelteken in “beinvloed”. Liewe Pappa Ek het werk gekry in die Gloucester Terrace Hotel naby Marble Arch. Dit is ’n mooi deel van Londen, naby Hyde Park. Ek is ’n skoonmaker. Ek werk van tienuur in die oggend tot tienuur in die aand, ses dae per week, met Maandae af.
Ek weet nie hoe lank ek dit sal kan doen nie, dit is nie baie lekker nie en die pay is maar min, maar dis darem iets. Die ander meisies is almal Pools. Die eerste ding wat hulle gesê het toe ek sê ek is van Suid-Afrika is “maar jy is dan wit”. Pappa weet ek sal nooit drink nie … Hy het dié woorde gelees en dit het regdeur hom gebrand, die wete, skielik weer nuutgemaak, van die skade wat hy aangerig het. Carla sal nooit drink nie, want haar pa is ’n alkoholis wat sy hele gesin opgefok het. Want jy kan vir eenhonderd-ses-en-vyftig dae al nugter wees, maar jy kan nie die verlede uitvee nie. Toe weet hy nie wat om vir haar terug te skryf nie, sy woorde opgedroog deur sy onsensitiewe blaps. Eers twee dae later het hy haar lomp geantwoord, vir haar vertel van die fiets wat hy ry en sy oorplasing na die Provinsiale Taakspan. Sy het hom aangemoedig. Dit is so lekker om te weet wat in Pappa se lewe aangaan. Baie interessanter as myne. Ek werk en ek slaap en ek eet, maar ek was darem Maandag by Buckingham Palace … En so het hulle korrespondensie ’n trant gekry waarmee hulle al twee gemaklik was, ’n ritme van twee e-posse per week, vier, vyf gemaklike paragrawe waarna hy al hoe meer begin uitsien het – die ontvang en die skryf. Sy antwoorde het hy bedags in sy kop beplan. Hy moet vir Carla hiervan of daarvan vertel. Die woorde wat sy klein lewe ’n sekere waarde gee. En toe, ’n week gelede, wil sy Internet-konneksie nie meer werk nie. Onverklaarbaar, skielik, onoplosbaar deur die mannetjie op die telefoon wat hom dinge aan die rekenaar laat doen het wat hy nie geweet het moontlik is nie. “You will have to take it to your dealer,” was die finale diagnose. Maar hy het nie ’n fokken dealer nie; dis gesteelde goedere. Vrydagmiddag ná werk het hy vir Charmaine Watson-Smith raakgeloop op pad na sy woonsteldeur. Charmaine is diep in die sewentig en sy bly in nommer 106. Almal se gryskop-ouma-met-’n-bolla, uitgeslape, gulhartig, lewenslustig, sy ken die hele woonstelblok, weet van alles. “How’s your daughter?” het Charmaine gevra. Toe vertel hy haar van sy rekenaarprobleme.
“Oh, I might just know someone who can help.” “Who?” “Just give me a day or so.” Gister, Maandagaand halfsewe, het hy in sy kombuis gestaan en klere stryk, die woonsteldeur oop, toe Bella kom klop het. “Tannie Charmaine sê ek moet na jou PC kom kyk.” Hy het haar al voorheen gesien, die jong vrou wat saans in ’n bonkige, onaantreklike soort grys uniform na haar woonstel aan die ander kant van die gebou stap. Kort blonde hare, ’n bril en ’n moegheid aan die einde van die dag, met ’n tassie in haar hand. Gisteraand het hy haar amper nie herken nie; sy’t mooi gelyk. Dit was net die tassie wat hom gered het, want sy het dit by haar gehad. “O … kom in.” Hy het die strykyster neergesit. “Bella van Breda. Ek is in nommer 64.” Net so ongemaklik soos hy. Hy het haar hand vlugtig geskud. Dit was sag en klein. “Bennie Griessel.” Sy het ’n denim en ’n rooi bloes en rooi lipstiffie aangehad. Haar oë was skaam agter die bril, maar hy was van die begin af bewus van haar breë, vol mond. “Tannie Charmaine is …” Hy het na die regte woord gesoek. “ … besig …” “Ek weet. Maar sy’s great.” Bella het na die skootrekenaar gekyk wat hy in die oopplankombuis hou, sy enigste werkoppervlakte. “Is dit … ?” “O … ja.” Hy het die rekenaar aangeskakel. “My Internet-konneksie wil … dit werk net skielik nie meer nie. Ken jy rekenaars?” Hulle het saam na die skerm gestaan en kyk terwyl dit aan die gang kom. “Ek’s ’n PC technician,” het sy geantwoord en haar tassie eenkant neergesit. “O.” “Ek weet, die meeste mense dink dis ’n man se werk.”
“Nee, nee, ek … enigiemand wat rekenaars verstaan …” “Dis omtrent al wat ek verstaan. Kan ek maar …” Sy het na die rekenaar beduie. “Asseblief.” Hy het vir haar een van sy hoë stoeltjies nader getrek. Sy het voor die blikbrein gaan sit. Hy’t besef sy is skraler as wat hy vroeër gedink het. Miskien was dit haar oorpak-uniform wat hom die wanpersepsie gegee het. Of haar gesig. Dit is rond, soos dié van ’n molliger vrou. Sy is in haar laat twintigs. Hy kon amper haar pa gewees het. “Is dit jou konneksie?” Sy het ’n spyskaart oopgehad, die muisloper op ’n ikoontjie. “Ja.” “Kan ek vir jou ’n short cut op jou desktop sit?” Dit het hom ’n rukkie geneem om daardie een uit te werk. “Asseblief.” Sy’t geklik en gekyk en gedink en gesê: “Dit lyk my jy’t per ongeluk die dial-up se telefoonnommer verander. Hier’s ’n syfer te min.” “O.” “Het jy die nommer iewers?” “Ek dink so …” Hy’t die pakkie dokumente en boekies en handleidings uit die kas gehaal wat hy daar in ’n plastieksak hou en daardeur begin soek. “Hier …” het hy met sy vinger gewys. “O.K. Sien jy, die agt is weg, jy’t dit seker ge-delete, dit gebeur nogal …” Sy het die syfer ingetik en geklik en skielik het die modem gebel en gekerm. “My fok,” het hy in opregte bewondering gesê. Sy het gelag. Met daardie mond. Toe vra hy of sy koffie wil hê. Of rooibos, wat Carla altyd gedrink het. “Dis al
wat ek het.” “Koffie sal lekker wees.” En toe sit hy die ketel aan en sy sê: “Jy’s ’n speurder,” en hy sê: “Wat het tannie Charmaine jou nie vertel nie?” en toe gesels hulle, miskien bloot omdat hulle al twee alleen is op ’n Maandagaand. Hy het nie planne met haar gehad nie, fok weet, hy het die koffie na die sit-gedeelte toe gedra met die wete dat hy teoreties haar pa kon gewees het, al het sy ’n mond, al het hy ook teen daardie tyd bewus geraak van haar borste wat soos haar gesig aan ’n voller vrou behoort, en haar bleek, foutlose vel. Hoflike, effe ongemaklike gesprek, vreemdelinge met ’n behoefte aan gesels op ’n Maandagaand. Twee bekers koffie met suiker en Cremora later, toe maak hy die groot fout. Hy vat onnadenkend die boonste CD op sy stapeltjie van vier en druk dit in sy rekenaar se skyfspeler, want dis al wat hy het, behalwe die draagbare Sony wat net met oorfone werk. En sy sê verbaas: “Jy hou van Lize Beekman?” en hy sê in ’n oomblik van eerlikheid: “Baie” en daar gebeur iets hier by haar oë, asof sy hom anders sien. Hy’t die CD gaan koop nadat hy ’n Beekman-liedjie op die karradio gehoor het, “My Suikerbos”. Daar was iets aan die sangeres se stem, ’n deernis, nee, ’n kwesbaarheid, of was dit net die melancholie van die musiek, hy weet nie. Hy’t gehou van die verwerking, die fyn instrumentasie en toe gaan soek hy die CD en hy luister daarna op die Sony, eintlik met die bedoeling om so in sy kop die baskitaar se note te druk. Toe vang die lirieke hom. Nie net die woorde nie, die kombinasie daarvan met die musiek en die stem en dit maak hom bly en dit maak hom hartseer en hy kan nie onthou wanneer laas musiek hom só laat voel het nie, asof hy ’n verlange na onbekende dinge het. En toe Bella van Breda vir hom vra of hy van Lize Beekman hou, toe is dit die eerste keer dat hy so iets vir iemand kan sê. Dit is hoekom dit só uitgekom het: “Baie.” Met gevoel. Bella het eindelik gesê: “Ek wens ek kan ook só sing,” en die ding is, hy het verstaan wat sy bedoel, hy het dieselfde smagting ervaar, om met soveel wysheid en insig en … gelatenheid al die dinge van die lewe te kan besing, die lekker en die sleg, met sulke fyn, mooi melodieë. Gelatenheid het hy nog nooit gehad nie. Gatvolheid, ja, dié het hy al sy hele lewe lank, en hy kon nog nooit verstaan
hoekom nie, ’n konstante, laegraadse gatvolheid vir alles, en bowenal vir homself. Toe sê hy: “Ek ook,” en ná ’n lang stilte, toe vat die gesprek vlam. Oor baie dinge. Sy vertel hom die storie van haar lewe. Hy gesels oor sy werk, gee haar die ou staatmakerstories van eienaardige arrestasies, aweregse getuies en eksentrieke kollegas. Bella sê sy wil eendag haar eie besigheid begin en daar is ’n lig in haar oë, ie, geesdrif. Hy luister, met verwondering. Sy het hierdie droom. Hy’t niks. Net ’n fantasie of twee. Die soort ding wat jy vir jouself hou, wat jy uitdink as jy saans alleen die snare pluk. Soos om vir Theuns Jordaan aan sy mifkrofoon vas te boei en te sê: “Nou sing jy ‘Hex-vallei’, pappie, maar nie ’n stukkie in ’n medley nie, die hele fokken ding.” En Anton L’Amour op lead kitaar, hy wat Bennie is op bass, en hy gaan dit oopdraai, groot, en hulle gaan gat skop. Of die kans om net een keer vir Schalk Joubert te vra: “Hoe de moer kry jy dit reg om só baskitaar te speel, asof die ding by jou brein ingeprop is?” Of miskien weer eendag sy eie four-piece band te hê. En die oer-blues te doen, Robert Johnson en John Lee Hooker, of die ou, regte rock ’n roll – Berry, Domino, Ricky Nelson, die vroeë Elvis … Maar hy sê niks, hy luister net na haar, en iewers teen tienuur staan sy op om toilet toe te gaan en toe sy terugkom, is hy op pad van die wasbak af rusbank toe en hy wil sê: “Nog koffie?” toe is hulle naby aan mekaar en haar oë kyk anderpad en haar mond het ’n klein, geheime glimlag wat sê sy het ’n vermoede wat nou gaan gebeur en sy gee nie om nie. Toe soen hy haar. En waar Bennie Griessel in die helder somerson van die Dinsdagoggend in die verkeer sit, onthou hy dit was aanvanklik sonder wellus, eerder ’n soort voortsetting van hulle gesprek. Dit was vertroosting, verlange, samesyn, soos Lize Beekman se musiek. Twee mense wat aanraking nodig gehad het. Hulle het lank gesoen en toe het hulle teenaan mekaar gestaan en mekaar vasgehou; hy was weer daarvan bewus dat haar lyf skraler is as sy verwagting. En toe het sy teruggestaan en op die bank gaan sit. Hy het gedink sy wou sê dis genoeg. Toe haal sy haar bril af en plaas dit versigtig langs die kant, op die vloer, haar oë skielik weerloos en diep bruin. Hy het by haar gaan sit en haar weer gesoen en die volgende wat hy kan onthou, is toe sy regop kom om haar bra los te maak en met ’n sekere trots haar mooi borste vir hom aan te bied. En hy sit in die polisiemotor en hy onthou hoe haar lyf gevoel het, sag en warm en
verwelkomend. En hy onthou die stadige intensiteit. Hoe hy in haar was, daar op die rusbank, homself van haar opgelig het en na haar gekyk het en dieselfde groot dankbaarheid in haar oë gesien het wat hy in sy hart gevoel het. ’n Dankbaarheid omdat sy daar was, omdat hierdie ding wat gebeur mooi en stadig en sag was. En hy dink so iets is die fok weet nie verkeerd nie. Sy selfoon lui en hy is terug in die werklikheid; dis seker Dekker wat wil weet waar hy is. Maar die skerm sê ANNA, en sy hart ruk.
* * *
Dit is die val wat haar lewe red. Sy het instinktief uit die straat uit opgehardloop met die steil stel trappies, teen die berg se helling uit, tussen twee hoë, rankplant-begroeide mure en toe op met ’n nou, slingerende voetpad. Tafelberg is skielik ’n kolos hier bo haar, die gradiënt steil, rotse en fynbos en oopte, sodat sy met ’n nuwe beklemming om haar hart seker is sy het ’n fout gemaak: Hulle sal haar sien, hulle sal haar inhaal teen die helling, hulle sal haar op die grond vasdruk en haar keel afsny, soos Erin s’n. Sy dryf haarself teen die berg op. Sy kyk nie om nie. Die steilte vreet aan haar bobene, haar knieë, ’n stadige gif wat haar gaan verlam. Daar, regs, bo, sien sy die kabelkarstasie, die son wat blink op motorruite, klein, klein figuurtjies van mense, so naby, so verskriklik ver, as sy net daar kan kom. Nee, te steil, die afstand te groot, sy sal dit nooit maak nie. Sy sien die voetpad verdeel in twee, sy kies die een na links en sy hardloop. Veertig tree en dan die onverwagse, skerp daling, die paadjie wat skielik val na ’n klipperige rivierklofie wat hoog uit die berg kom. Sy is nie daarop voorbereid nie, haar voet land sleg op rollende klippe en sy val na links, bergaf, haar hande wat keer, haar skouer tref hard, haar wind uit. Sy rol een keer en dan lê sy, daarvan bewus dat haar hande nerfaf is, dat haar ken iets getref het, maar haar nood is asem, sy wil dit met groot teue terugdwing in haar longe, die eerste
probeerslag is ’n bulk soos ’n dier en sy wil stil wees, hulle mag haar nie hoor nie. Twee keer adem sy hees, dan sagter, kleiner pogings, en dan kom die wal van die riviertjie in fokus en sy sien die skeur waar water oor die eeue heen die reots onder uitgekalwe het, net genoeg sodat sy daarin sal kan kruip. Sy beweeg soos ’n slang oor die ronde klippe, haar bloeiende hande voor haar, tot by die opening. Sy hoor die dringende voeteval van haar agtervolgers. Hoe naby is hulle? Sy besef haar rugsak sal nie hier kan in nie. Sy het nie tyd nie, hulle gaan haar sien. Sy kom orent tot op haar knieë, wil die rugsak afruk, moet eers die gespe om haar maag losknip, pluk die skouerbande regs, dan links af, wurm haar lyf in die holte in, trek die rugsak agterna en dan spring hulle hier drie meter van haar af oor die riviertjie, rats en behendig en en woordeloos, en sy hou haar jagende asem in, sy sien hoe die bloed van haar ken tot op die rots drup, sy lê stil, sy maak haar oë toe, asof hulle haar dan nie sal kan sien nie.
* * *
Hy sit in die verkeer, selfoon teen sy oor, en hy sê: “Hallo, Anna,” en sy hart klop in sy keel oor gisteraand. “Bennie, ek wil graag met jou praat.” Dis fokken onmoontlik; daar is geen manier hoe sy vrou kon uitgevind het nie. “Waaroor?” “Oor alles, Bennie. Ek het gewonder of ons dalk vanaand kan gesels.” Oor alles? Maar hy kan nie agterkom waar haar stemtoon lê nie. “Ons kan. Wil jy hê ek moet huis toe kom?” “Nee, ek het gedink ons moet iewers … miskien iets gaan eet.” Jissis. Wat beteken dit?
“Dis reg so. Waar?” “Ek weet nie. Canal Walk is soort van halfpad. Daar’s ’n Primi …” “Hoe laat sal jou pas?” “Sewe-uur?” “Dankie, Anna, dit sal lekker wees.” “Totsiens, Bennie.” Net so skielik, asof hy die verkeerde ding gesê het. Hy sit met die selfoon in sy hand. Agter hom blaas ’n motoris op sy toeter. Hy besef hy moet vorentoe ry. Hy los die koppelaar, maak die gaping voor hom toe. Oor alles, Bennie. Wat beteken dit? Hoekom nie by hulle huis nie? Maar sy wil gaan uiteet. Amper soos ’n date. Maar toe hy sê: “Dit sal lekker wees,” toe kom die totsiens asof sy haar vererg het. Weet sy van gisteraand? Sê nou maar sy was daar, by sy woonstel, by sy deur. Sy sou fokkol kon sien, maar sy sou seker kon gehoor het, Bella wat in ’n stadium sagte, tevrede geluide gemaak het, Here, toe het hy daarvan gehou, maar as Anna dit gehoor het … Maar sy was nog nooit by sy woonstel nie. Hoekom sou sy gisteraand gekom het? Om te praat oor iets? Nie heeltemal onmoontlik nie. En sy kon dalk iets gehoor het en toe gewag het en vir Bella sien uitkom het en … Maar sal sy dan wil gaan uiteet? Nee. Miskien. As sy weet … Hy’s in sy moer. Hy weet dit nou. Maar sy kan nie weet nie.
6
Brownlowstraat is vir Griessel ’n verrassing, want Tamboerskloof is veronderstel om ’n rykmansbuurt te wees. Maar hier is die ou Victoriaanse huise ’n glyskaal, van onlangs gerestoureerd tot erg vervalle. Sommige is skakelhuise; ander hurk teen die helling as losstaande kolosse. Nommer 47 is groot en indrukwekkend, twee verdiepings, stoepe en balkonne met krullende traliewerk, roomkleur mure en groen geverfde houthortjies langs die vensters. Iewers in die afgelope tien jaar is dit gerestoureer, maar dit het nou weer aandag nodig. Daar is nie ’n motorhuis nie. Griessel parkeer in die straat, agter ’n swart afslaankap Mercedes SLK 200, twee polisievoertuie en ’n wit Nissan met die SAPS-kenteken op die deur en die woorde Social Services daaronder, in swart. Forensies se bussie staan oorkant. Dik en Dun. Hulle het seker direk van Langstraat af gekom. ’n Uniform keer hom voor by die groot houtvoordeur. Hy wys sy eieningskaart. “Inspekteur sal moet agterom loop; die sitkamer is ’n crime scene,” sê hy. Griessel knik tevrede. “Ek dink hulle is nog in die kombuis, inspekteur kan hier regs, en dan al om die huis.” “Dankie.” Hy stap. Daar is nie baie tuin tussen muur en huis nie. Die bome en struike is groot, oud, ietwat onversorg. Agter is ’n uitsig oor Leeukop. By die agterdeur is nog ’n uniform op wag. Hy haal weer sy SAPS-kaartjie uit sy beursie en wys dit vir die konstabel. “Die inspekteur verwag jou.” “Dankie,” sê hy en loop in, deur die wasgoedkamer, en maak die binnedeur oop. Dekker sit by die kombuistafel met ’n beker koffie tussen sy hande en ’n pen en ’n notaboek voor hom, sy fokus volkome op die bruin vrou oorkant hom. Sy is in
’n huishulpjurk van wit en pienk, met ’n sakdoek in haar hande en huilende oë. Sy is geset, wat dit moeilik maak om haar ouderdom te skat. “Fransman …” sê Griessel. Dekker kyk gesteurd op. “Bennie.” En as ’n nagedagtenis: “Kom in.” Hy’s ’n lang, atletiese bruin man, die skouers breed en sterk, die gesig uit ’n sigaretadvertensie, ru en aantreklik. Griessel loop tot by die tafel en skud Dekker se hand. “Dit is mevrou Sylvia Buys. Sy’s die huishulp hier.” “Goeiemôre,” sê Sylvia Buys plegtig. “Môre, mevrou.” Dekker stoot die koffie van hom af weg, asof hy hom daarvan wil distansieer, trek sy notaboek nader met ’n sekere onwilligheid. “Mevrou Buys het om …” hy raadpleeg die notaboek. “… ses vyf-en-veertig op diens gekom en eers opgeruim en koffie gemaak hier in die kombuis voor sy die leefarea gaan inspekteer het om … sewe-uur …” “Damage assessment,” sê Sylvia Buys verwytend. “Daai vrou kan mors.” “… waarna sy die oorledene, meneer Adam Barnard, en die verdagte, mevrou Sandra Barnard …” “Sy’s eintlik Alexandra …” Met afkeer. Dekker maak ’n nota en sê: “Mevrou Alexandra Barnard. Mev. Buys het hulle in die biblioteek op die eerste verdieping aangetref. Om sewe-uur. Die vuurwapen het langs mevrou Barnard op die mat gelê …” “Not to mention the booze. Sy’s ’n alkie, elke aand suip sy soos ’n vis en meneer Adam …” Die sakdoek kom van die tafel af en Sylvia Buys druk-druk daarmee onder haar neus en haar stem raak dunner en hoër. “Was sy gisteraand onder die invloed?” vra Griessel.
“Sy’s elke aand dronk soos ’n tor. Ek loop half past four en toe was sy well on her way, daai tyd van die middag praat sy al met haarself.” “Mevrou Buys sê die verdagte was alleen toe sy gistermiddag die huis verlaat het. Sy weet nie hoe laat die oorledene tuisgekom het nie.” “Hy was ’n goeie man. Always a kind word. Ek ve’staan dit nie. Vir wat het sy hom geskiet? Vir wat? He did her no wrong, hy’t al haar milly gevat, haar gesuip, hy’t dit maar net gevat, hy’t haar elke aand in die bed loop sit en toe gaan skiet sy vir hom?” Sy huil kopskuddend. “Jy’s traumatised, sister. Ons sal vir jou counselling kry.” “Ek soek nie counselling nie,” snik Sylvia Buys. “Waar gaan ek weer ’n job kry, op my ouderdom?”
* * *
“Dis nie so eenvoudig soos sy sê nie,” sê Dekker toe hulle met die geelhouttrappe oploop na die biblioteek toe. “Jy sal sien.” Griessel sien daar is spanning in die man. Hy weet sy kollegas noem Dekker “Fronsman” agter sy rug, ’n verwysing na ’n afwesige sin vir humor en verterende ambisie. En in die wandelgange van die Provinsiale Taakspan het hy die stories gehoor, want hulle praat graag oor opkomende sterre: Dekker is ’n Franse rugbyspeler se kind. Sy ma, ’n bruin vrou uit Atlantis se armoede, was jonk en vól toe sy in die jare sewentig by die Koeberg-kernkragsentrale as skoonmaker gewerk het. Die rugbyspeler was glo ouer, lank verby sy gloriejare, destyds ’n skakelbeampte by die Franse konsortium wat Koeberg gebou en onderhou het. Hul interaksie was eenmalig, en die rugbyspeler is kort daarna terug na sy vaderland, sonder kennis van sy nasaat. Dekker se ma kon nie sy naam onthou nie, daarom dat sy haar seun bloot “Fransman” laat doop het. Hoeveel daarvan waar is, weet Griessel nie. Maar die kind het klaarblyklik sy pa se Galliese neus, liggaamsbou en steil swart hare geërf – nou borselkop gesny – en sy ma se koffiekleurige vel.
Hy loop agter Dekker by die huis se biblioteek in. Dik en Dun is in die vertrek besig. Hulle kyk op as die speurders inkom. “Ons kan nie aangaan om só te ontmoet nie, Bennie, die mense sal begin praat,” sê Jimmy. ’n Ou grap, maar Griessel grinnik en kyk na die slagoffer wat aan die linkerkant lê, swart pak se broek, wit hemp sonder das, een skoen weg, twee skietwonde in die bors. Adam Barnard was lank en fors. Sy swart hare in die styl van die sewentigs, oor die ore en kraag, met elegante grys vlerke hier by die slape. In dood is sy oë oop, sodat hy effens verbaas lyk. Dekker vou sy arms, afwagtend. Dik en Dun staan vir hom en kyk. Griessel loop versigtig nader, neem die boekrakke, die Persiese tapyte, die skilderye, die drankbottel en glas langs die stoel aan die regterkant van die vertrek in. Die vuurwapen lê nou in ’n deurskynende plastiek-bewysstuksakkie op die grond, waar Forensies dit met ’n wit krytkring gemerk het. “Sy was daardie kant?” vra hy vir Dekker. “Sy was.” “The Oracle at work,” sê Dik. “Fokkof, Arnold,” sê Griessel. “Is die pistool afgevuur?” “Baie onlangs,” sê Arnold. “Maar nie hier nie.” “Bingo,” sê Arnold. “Ek het jou gesê hy gaan dit dadelik kry,” sê Jimmy. “Ja,” sê Dekker. Hy klink teleurgesteld. “Dis ’n outomatiese pistool, drie rondtes afwesig uit die magasyn, maar hier’s nie doppies nie. Geen bloed op die vloer nie, daar’s nie skietgate in die mure of boekrakke nie, en die skoen makeer,” sê Fransman Dekker. “Ek het die hele huis deurgeloop. Jimmy-hulle het deur die tuin gekyk. Sy’t hom nie hier geblaas nie. Ons gaan die kar in die straat moet deurkyk …”
“Waar is sy?” “In die sitkamer, by Tinkie Kellerman van Maatskaplik.” “Klop, klop,” sê iemand van die deur af. Dit is die langhaar-fotograaf. “Kom in,” sê Dekker. “Jy’s laat.” “Omdat ek eers fokken prints moes maak vir …” Hy sien vir Griessel. Sy houding verander. “Vusi het sy foto’s, Bennie.” “Dankie.” “Jimmy, het julle haar al vir GSR getoets?” vra Dekker. “Nog nie. Maar ek het haar hande in papier gesit. Sy’t dié nie ge-like nie.” “Kan julle haar gou gaan doen? Ek kan nie met haar praat as sy papiersakke om haar hande het nie.” “As sy aan die pistool gevat het, gaan sy GSR hê. Ek weet nie of jy veel daarmee sal kan doen nie.” “Laat ék daaroor worry, Jimmy …” “Ek sê maar net. Gunshot residue is nie meer wat dit was nie. Die advokate raak slim.” Jimmy haal ’n boksie uit sy tas. Daarop staan “SEM Examination”. Hy loop na die trappe toe, met die twee speurders agterna. “Fransman, jy’t goeie werk gedoen,” sê Griessel. “Ek weet,” sê Dekker.
* * *
Die Metro-polisie se CCTV-beheerkamer is ’n indrukwekkende vertrek; dit het twintig flonkerende televisieskerms, ’n hele bank video-opnemers en ’n
beheerpaneel wat lyk soos ’n NASA-pendeltuig s’n. Speurder-inspekteur Vusi Ndabeni staan en kyk na ’n monitor: Die greinerige beeld van die klein, hardlopende figure in die straatligte van Langstraat. Nege sekondes van materiaal, nou in stadige aksie, sewe skaduagtige mense in ’n desperate wedloop van links na regs oor die skerm. Die meisie is voor, net uitkenbaar danksy die donker boggel van die rugsak. Hier, tussen Leeuwen- en Pepperstraat, is sy net drie tree voor die naaste aanvaller, arms en bene wat hoog lig in vlug. Nog vyf mense is sestien, sewentien meter terug. In die heel laaste raam voor sy van die skerm verdwyn, kan Ndabeni sien sy begin haar kop na agter draai, asof sy wil kyk hoe naby hulle is. “Dis die beste wat julle het?” Die operateur is wit, ’n uil van ’n mannetjie agter ’n groot, ronde Harry Potterbril. Hy haal net sy skouers op. “Kan jy dit vergroot?” “Nie regtig nie,” antwoord hy in ’n nasale stem. “Ek kan ’n bietjie speel met die brightness en contrast, maar as jy inzoom, kry jy net grain. Die pixels word nie meer nie.” “Kan ons probeer, asseblief?” Die Uil skuif en draai aan die knoppe voor hom. “Moenie wonderwerke verwag nie.” Op die skerm hardloop die figure stadig agteruit en vries. Dan pik die man op ’n sleutelbord en histogramme en tabelle verskyn bo-op die beeld. “Vir wie wil jy beter sien?” “Die mense wat haar jaag.” Die operateur gebruik ’n muis om twee van die vyf agterste figure te selekteer, wat skielik die hele skerm vul. Hy tik weer op die sleutelbord en die beeld verlig, die skaduwees vervlak. “Al wat ek kan probeer, is ’n high sharpen …” sê hy. Die fokus verskerp effens, maar nie een van die twee mense is herkenbaar nie. “Jy kan darem sien dis ouens, en die voorste een is swart,” sê die Uil.
Vusi kyk stip na die skerm. Dit gaan hom nie veel help nie. “En jy kan sien dis nie ou mans nie.” “Kan jy dit uitdruk?” “O.K.” “Hulle is net op die een kamera?” “My shift is agtuur klaar. Dan sal ek kyk of daar nie iewers nog iets is nie. Hulle moes van Groentemark of Kerkstraat se kant af gekom het, maar dit gaan tyd vat. Daar’s sestien kameras in daai sektor. Maar nie almal werk meer nie.” “Dankie,” sê Vusi Ndabeni. Maar een ding verstaan hy nie: As een van die aanvallers hier, by Pepperstraat, net drie tree agter haar was, hoekom het hy haar nie gevang voor die kerk nie? Dis vyfhonderd meter, dalk meer. Het hy gegly? Geval? Of doelbewus net gewag vir ’n stiller plek? “Nog een ding, as jy nie omgee nie …” “Hei, dis my werk …” “Kan jy vir my die twee vergroot wat voor hardloop?”
* * *
Griessel loop agter Dekker by die sitkamer in. Dit is ’n ruim vertrek, met groot banke en stoele om ’n tamaai koffietafel, smaakvol, oud, goed gerestoureer. Klein en tenger Tinkie Kellerman van die SAPS se Maatskaplike Dienste sit regop in ’n gemakstoel wat haar verdwerg. Sy’s die een wat laat haal word wanneer die slagoffer of verdagte ’n vrou is, want sy is vol deernis en empatie, maar daar is nou ’n frons van ongemak op haar gesig. “Mevrou, kom ek haal die sakke van jou hande af,” sê Jimmy joviaal vir Alexandra Barnard, ’n geboë figuur in ’n te groot wit kamerjas. Sy sit vooroor
op die punt van ’n groot viersitplekbank, haar elmboë op haar knieë, haar kop hang, ongewaste grys en blonde hare verberg haar gesig. Sy steek haar hande uit sonder om op te kyk. Jimmy maak die bruin papiersakke los. “Ek moet net gou dié diskette op jou hande druk. Hulle is klewerig, maar dis al …” Hy breek die seël op die SEM-kissie en haal die ronde metaalskyfies uit. Griessel sien Alexandra Barnard se hande bewe, haar gesig nog steeds agter die lang hare bedek. Hy en Dekker kies elkeen ’n stoel. Dekker maak sy notaboek oop. Jimmy werk vinnig en sekuur, eers die regterhand, dan die linker. “Daar’s hy, dankie, mevrou.” Hy gee vir die speurders ’n kyk wat sê “hier’s ’n interessante een”, en dan pak hy op. “Mevrou Barnard …” sê Dekker. Tinkie Kellerman skud haar kop effens, asof sy wil sê die verdagte is nie kommunikatief nie. Jimmy loop uit terwyl hy sy oë rol. “Mevrou Barnard,” sê Dekker, sy stem harder, saakliker. “Ek het dit nie gedoen nie,” sê sy sonder om te beweeg, haar stem verrassend diep. “Mevrou Barnard, u het die reg tot ’n regsverteenwoordiger. U het die reg om geen vrae te beantwoord nie. Maar as u sou kies om ons vrae te beantwoord, moet ek u meedeel dat u verklaring in die hof gebruik kan word.” “Ek het dit nie gedoen nie.” “Wil u ’n regsverteenwoordiger kontak?” “Nee,” en dan lig sy haar kop stadig en druk haar hare weerskante weg van haar gesig af. Bloedbelope blou oë, vel het ’n ongesonde kleur. Griessel sien die eweredige gelaatstrekke, die skimpe van vergange skoonheid onder die spore van misbruik, en hy weet hy ken haar, hy ken ’n weergawe van hierdie gesig, maar hy kan haar op dié oomblik hoegenaamd nie plaas nie. Sy kyk vir Dekker, dan vir Griessel; haar enigste uitdrukking is een van volslae moegheid. Sy reik ’n hand na ’n tafeltjie langs haar uit en tel ’n pakkie sigarette en ’n aansteker op.
Sy sukkel om die pakkie oop te kry en ’n sigaret uit te haal. “Mevrou Barnard, ek is inspekteur Fransman Dekker. Dit is inspekteur Bennie Griessel. Is u gereed om ons vrae te beantwoord?” Sy stem is harder as wat nodig is, soos wanneer ’n mens met iemand praat wat ’n bietjie doof is. Sy knik klein, met moeite, en steek die sigaret aan. Sy trek die rook diep in, asof dit haar krag moet gee. “Die oorledene is u man, meneer Adam Barnard?” Sy knik. “Wat is sy volle name?” “Adam Johannes.” “Ouderdom?” “Twee-en-vyftig.” Dekker skryf. “En sy beroep?” Sy rig haar moeë oë op Dekker. “AfriSound.” “Verskoon my?” “AfriSound. Dis syne.” “AfriSound?” “Dis ’n platemaatskappy.” “En hy besit die maatskappy?” Sy knik. “U volle name?” “Alexandra.”
“Ouderdom?” “Honderd-en-vyftig.” Dekker kyk net vir haar, pen reg. “Ses-en-veertig.” “U beroep?” Sy maak ’n kort, ironiese geluid en vee weer hare terug van haar gesig af. Griessel sien bevestiging van die huishulp se stelling dat sy ’n drinker is – die bewende hande, die oë, die kenmerkende verkleuring en erosie op haar gesig. Maar daar is iets anders waaraan sy hom herinner. Hy weet hy het haar al iewers ontmoet. “Verskoon my?” sê Dekker. Van waar ken hy haar, wonder Griessel. Van waar? “Ek werk nie.” “Tuisteskepper,” sê Dekker en skryf dit neer. Sy maak dieselfde gelade geluid. “Mevrou Barnard, kan u vir ons vertel van laasnag se gebeure?” Sy sak stadig terug in haar groot stoel, plaas ’n elmboog op die leuning en stut haar kop met die hand. “Nee.” “Verskoon my?” “Ek weet nie hoe lank ek nog die versoeking sal kan weerstaan om ‘jy is verskoon’ te sê nie.” Dekker se kakebeenspiere beweeg, asof hy op sy tande kners. Alexandra trek haar asem stadig en doelbewus in, asof sy haar staal vir ’n groot taak. “Ek is ’n alkoholis. Ek drink. Van elfuur in die oggend. Teen sesuur is ek gewoonlik genadiglik dronk. En van halfnege af onthou ek nie veel nie.” Op daardie oomblik, miskien omdat die diep, ryk stem iewers in sy geheue resonansie vind,
onthou Bennie Griessel wie sy is. Die woord kom sit op sy tong, hy sê dit amper hardop, bedwing homself net betyds: Soetwater. Sy was ’n sangeres. Xandra. Here, sy het oud geword. Soetwater. Die woord roep ’n visioen by hom op, ’n TV-beeld van ’n vrou in ’n nouende swart rok, net sy en ’n mikrofoon in die helder kollig van ’n rookgehulde verhoog. ’n Glasie vol sonlig, ’n soet kelkie klein. Skink Soetwater. ’n Mondjie vol liefde, ’n slukkie vol pyn. Drink Soetwater. Middel tagtigerjare, daar rond, en Griessel onthou haar soos sy was, die onmoontlik sensuele blonde sangeres met die Dietrich-agtige stem en genoeg selfvertroue om haarself nie ernstig op te neem nie. Hy het haar net op ’n televisieskerm ontmoet, en op die voorblaaie van tydskrifte, in die dae voor hý gedrink het. Sy het vier, vyf treffers gehad, hy onthou “ ’n Donkiekar net vir Twee”, “Tafelbaai se Wye Draai” en die heel grote, “Soetwater”. Fok, sy was hierdie moerse ster en kyk hoe lyk sy nou. Bennie Griessel voel ’n jammerte vir haar, ’n verlies, ’n aanklank. “So u kan nie onthou wat gisteraand gebeur het nie?” “Nie veel nie.” “Mevrou Barnard,” sê Dekker, styf en formeel. “Ek kry nie die indruk dat jou man se dood jou geweldig ontstel nie.” Hy maak ’n fout, dink Griessel. Hy lees haar verkeerd; hy’s te gespanne, te haastig. “Nee, inspekteur, ek is nie in rou nie. Maar as jy my gin en dry lemon bring, sal ek my bes doen.” Vir net ’n oomblik is Dekker onseker, maar dan trek hy sy skouers terug en hy
sê: “Kan jy enigiets onthou van gisteraand?” “Genoeg om te weet dit was nie ek nie.” “O.” “Kom vanmiddag terug. Drie-uur is ’n goeie tyd. My beste van die dag.” “Dit is nie ’n opsie nie.” Sy maak ’n gebaar wat sê dit is nie haar probleem nie. “Ek sal jou bloed moet laat toets vir alkoholvlakke.” “Gaan aan.” Dekker staan op. “Ek kry net die tegnikus.” Griessel loop agter hom aan. In die sitkamer is Dik en Dun besig om op te pak. “Kan jy net haar bloed trek voor julle gaan?” “Sure, Chief,” sê Jimmy. “Fransman,” sê Griessel, daarvan bewus dat hy baie versigtig sal moet wees. “Jy weet ek is ’n alkoholis?” “A,” sê Arnold, die dikke, “speurders wat bond. Wat kan mooier wees?” “Fokkof,” sê Griessel. “Ek was in elk geval op pad,” sê Arnold. “Julle moet nog die Mercedes in die straat doen,” sê Dekker. “Dis volgende op die lys,” en Arnold loop by die vertrek uit, sy hande vol van bewysstukke en apparaat. “So?” vra Dekker as hulle alleen is. “Ek weet hoe sy voel, Fransman …”
“Sy voel niks. Haar man lê daar en sy voel niks. Sy’t hom geblaas, ek sê jou. Die gewone storie.” Hoe verduidelik jy aan ’n nie-suiper hoe sy nou voel? Alexandra Barnard se hele wese sit daar en smag na alkohol. Sy is soos ’n drenkeling in die verskriklike vloed van dié oggend; drank is die enigste reddingsboei. Griessel weet. “Jy’s ’n goeie speurder, Fransman. Jou toneel is perfek bestuur, jy doen alles volgens die boek en jy’s tien teen een reg. Maar as jy ’n bekentenis wil kry … Gee my ’n kans. Een-tot-een is nie so intimiderend nie …” Griessel se selfoon lui. Hy kyk na Dekker terwyl hy dit uithaal. Die bruin man lyk nie positief oor sy voorstel nie. “Griessel.” “Bennie, dis Vusi. Ek’s by Metro se CCTV-kamer. Daar’s twee van hulle, Bennie.” “Twee wat?” “Twee meisies, Bennie. I’m standing here, watching five guys chasing two girls up Long Street.”
7
“Fok,” sê Bennie Griessel. “Hulle jáág die meisies? In Langstraat?” “Die time code sê dit was vanoggend, kwart voor twee. Vyf ouens, van Waalstraat se kant af, na die kerk toe.” “Dis wat, vier straatblokke?” “Ses blokke tussen Waal en die kerk. ’n Halwe kilometer.” “Jissis, Vusi, jy doen dit nie om ’n rugsaktoeris se beursie te steel nie.” “Ek weet. Die ander ding is: Die footage is nie great nie, maar ’n mens kan sien – die ouens wat hulle jaag, is swart én wit, Bennie.” “Maak nie sin nie.” Want in hierdie land werk misdadigers nie saam oor kleurgrense heen nie. “Ek weet … Ek het gedink, miskien is hulle bouncers, miskien het die girls iewers by ’n club moeilikheid gemaak, but, you know …” “Bouncers sny nie ’n buitelandse toeris se keel af nie.” “Nog nie,” sê Vusi, en Griessel weet wat hy bedoel. Die klubs en uitsmyters is ’n nes van georganiseerde misdaad, ’n kruitvat. “In any case, ek het ’n bulletin uit op die ander meisie.” “Goeie werk, Vusi.” “I don’t know if it will help much,” sê Ndabeni en beëindig die oproep. Griessel sien Dekker wag ongeduldig op hom. “Ek is jammer, Fransman. Dis Vusi se ondersoek …” “En hierdie is my ondersoek,” met lyftaal wat wys hy is reg vir ’n argument.
Griessel het nie dié aggressie verwag nie, maar hy weet hy is op dun ys. Speurders se territoriale drange is sterk, en hy is net hier om te mentor. “Jy’s reg,” sê hy en loop deur se kant toe. “Dog net dit kan help.” Dekker staan, fronsend. En dan, net voor Bennie uitgaan: “Wag …” Griessel steek vas. “O.K.,” sê Dekker eindelik. “Praat met haar.”
* * *
Sy hoor hulle nie meer nie. Net die voëlgesang en die sonbesies en die gedruis van die stad hier onder. Sy lê in die koelte van die rotshang, maar sy sweet, die temperatuur van die bergkom wat vinnig styg. Sy weet sy kan nie opstaan nie, want hulle sal iewers gaan staan en hulle oë sal na haar soek. Sy oorweeg dit om hier te bly lê, die hele dag lank, totdat die donker kom en sy nie so sigbaar sal wees nie. Sy kan dit doen, al is sy dors, al het sy gisteraand laas geëet. As sy rus, as sy nog ’n bietjie kan slaap, sal sy vanaand met nuwe krag kan gaan hulp soek. Maar hulle weet sy is hier, iewers. Hulle sal die ander laat kom en hulle sal soek, hulle sal terugloop op die paadjie en elke moontlikheid oorweeg en as iemand naby kom, sal hulle haar kan sien, die holte is nie diep genoeg nie. Sy ken die meeste van hulle, sy ken die lenigheid van hul lywe, die energie, die fokus, die behendigheid en selfvertroue. En sy weet hulle kan nie bekostig om op te hou soek nie. Sy sal moet beweeg. Sy kyk in die rivierlopie af, die klipperige, smal gang wat tussen fynbos en rotse
na onder slinger. Sy sal daar moet af, kruipend, versigtig om nie ’n geluid te maak nie. Die berg was die verkeerde keuse, te verlate, te oop. Sy moet kom waar daar mense is, sy moet hulp kry, iewers moet iemand bereid wees om te luister en te help. Sy lig haar kop traag van die rugsak af, druk dit voor haar uit en gly versigtig agterna. Sy sal dit nie kan sleep nie; dit sal hoorbaar wees. Sy kom gebukkend orent, swaai die rugsak stadig op en knip die gespes saggies vas. Dan kruip sy, op haar hande en voete, oor die ronde klippe. Stadig, sodat sy niks versteur wat ’n geluid kan maak nie.
* * *
Griessel loop in die sitkamer in en gaan fluister in Tinkie Kellerman se oor. Alexandra Barnard trek aan nog ’n sigaret; haar oë volg vir Tinkie wat opstaan en by die deur uitloop. Griessel gaan maak die deur agter haar toe en stap woordeloos na ’n Victoriaanse meubelstuk, ’n groot kas met loodglasdeure bo en donker houtdeure onder. Hy trek bo en onder deure oop, haal ’n glas en ’n bottel jenewer uit en loop na die stoel naaste aan Alexandra Barnard. “My naam is Bennie Griessel en ek is ’n alkoholis. Ek het honderd-ses-en-vyftig dae laas gedrink,” sê hy en breek die seël op die bottel. Haar oë is op die deurskynende vloeistof wat hy versigtig in die glas gooi, drie stewige vingers. Hy hou dit na haar uit. Sy neem dit met hande wat verskriklik bewe. Sy drink, ’n intense, dorstige sluk, en sy maak haar oë toe. Griessel loop terug drankkabinet toe en bêre die bottel. As hy weer gaan sit, sê hy: “Ek sal jou nie meer as dit kan laat drink nie.” Sy knik net. Hy weet hoe sy op dié oomblik voel. Hy weet die drank sal deur haar hele wese vloei, ’n sagte gety van heling wat seerplekke genees en stemme stilmaak, wat ’n silwer, gladde strand van vrede nalaat. Hy gee haar kans; dit verg vier slukke, soms meer; jy moet jou liggaam kans gee om die goddelike gloed deur te laat. En dan besef hy hy staar met ’n sekere intensiteit na die glas teen haar lippe, hy
ruik die drank, hy voel hoe sy eie lyf daarna uitreik en hy sit terug in die stoel, hy haal asem, hy kyk vir die tydskrifte op die koffietafel, Visi en House & Garden, twee jaar oud, maar ongelees en uitgestal, tot sy sê: “Dankie,” en hy kan hoor haar stem het sy skerp kant verloor. Sy sit die glas stadig neer, die bewing byna weg, en sy hou die pakkie sigarette na hom uit. “Nee dankie,” sê hy. “ ’n Alkoholis wat nie rook nie?” “Ek rook nou en dan.” Sy steek vir haarself een aan. Die asbakkie langs haar is al vol. “My AA-borg is ’n dokter,” sê hy ter verduideliking. “Kry ’n ander borg,” sê sy, ’n poging tot humor, maar dit wil nie werk nie; haar mond trek in ’n ander rigting en dan begin Alexandra Barnard te huil, geluidloos, net ’n pynlike grynslag op haar mond en trane uit haar oë en sy sit die sigaret neer en hou haar palms voor haar gesig. Griessel druk ’n hand in sy broeksak en haal ’n sakdoek uit. Hy hou dit, maar sy sien nie. Haar skouers ruk, haar kop sak, die lang hare val weer oor haar gesig soos ’n gordyn. Griessel sien dit is blond en silwer, ’n rare verskynsel; die meeste vroue kleur hulle hare. Hy wonder hoekom sy nie meer omgee nie. Sy, wat ’n ster was, ’n grote. Wat het haar afgetakel tot hier? Hy wag dat die snikke bedaar. “Sy naam is dr. Barkhuizen. Hy’s sewentig jaar oud en hy’s ’n alkoholis met lang hare en ’n vlegsel. Hy sê sy kinders het vir hom gevra hoekom hy rook, toe het hy allerhande redes – dit help hom met stres, dis lekker …” Hy hou sy stemtoon rustig, hy weet die storie is onbenullig, maar dit maak nie saak nie, hy wil net ’n dialoog aan die gang kry. “Toe sê sy dogter dan sal hy seker nie omgee as sy ook rook nie. Toe weet hy hy lieg vir homself oor die sigarette. Toe hou hy op. Vir my was dit anders. Toe ek ophou drink … Ek het net belangstelling in rook verloor. Dit was nooit my nommer een nie. Nou’s ek op drie of vier ’n dag …” Sy kyk eindelik op en sien die sakdoek. Sy vat dit by hom. “Was dit moeilik?” Haar stem nog dieper. Sy vee haar gesig af, snuit haar neus.
“Die drank was. Is. Nog steeds.” “Ek sal nie kan nie.” Sy frommel die sakdoek en vat weer die glas, drink daaruit. Hy antwoord nie. Hy moet haar nou ruimte gee om te praat. Hy weet sy sal. “Nou’s jou sakdoek …” “Jy kan dit hou.” “Ek sal dit laat was.” Sy sit die glas neer. “Dit was nie ek nie.” Griessel knik. “Ons het nie meer gepraat nie,” sê sy en kyk iewers in die vertrek. Griessel sit stil. “Hy kom halfsewe van die kantoor af. Dan kom hy op biblioteek toe en hy staan en kyk vir my. Om te sien hoe dronk ek is. As ek niks sê nie, dan gaan eet hy alleen in die kombuis of hy gaan sit in sy studeerkamer. Of hy gaan weer uit. Hy het my elke aand in die bed gesit. Elke aand. Ek het al gewonder, in die middag, as ek nog kan dink, of dit is hoekom ek drink. Sodat hy nog hierdie een ding vir my kan doen. Is dit nie tragies nie? Breek dit nie jou hart nie?” Die trane begin weer loop. Dit versteur die ritme van haar spraak, maar sy hou aan. “Partykeer, as hy inkom, sal ek hom probeer uitlok. Ek was goed daarmee …Gisteraand het ek … ek het vir hom gevra wie se beurt dit nou is … Jy moet verstaan … Ons het … dis ’n lang storie …” en vir die eerste keer is haar snikke hoorbaar, asof die volle gewig van haar geskiedenis op haar kom lê en die jammerte wel op in Bennie Griessel, want hy sien weer die skim van die sangeres in haar. Eindelik druk sy die sigaret dood. “Toe sê hy net ‘fok jou’, dis al wat hy ooit gesê het en toe ry hy weer. Ek het vir hom geskree ‘ja, los my hier’, ek dink nie hy het gehoor nie, ek was dronk …” Sy blaas weer in die sakdoek. “Dis al. Dis al wat ek weet. Hy’t my nie in die bed gesit nie, hy’t my daar gelos en vanoggend, toe lê hy daar …” Sy tel die glas op. “Die laaste woorde wat hy vir my gesê het. ‘Fok jou’.” Nog trane.
Dan drink sy die laaste bietjie vloeistof daaruit en kyk met groot fokus na Griessel. “Dink jy dit kon ek gewees het wat hom geskiet het?”
* * *
Die mollige meisie agter die ontvangstoonbank van die Cat & Moose Youth Hostel and Backpackers Inn kyk na die foto wat die konstabel uithou en sy vra: “Hoekom lyk sy so snaaks?” “Want sy is dood.” “O, Liewe Vader.” En dan sit sy twee en twee bymekaar en sê: “Was sy die een vanoggend, hier by die kerk?” “Ja. Herken jy haar?” “O, Liewe Vader, ja. Hulle het gister ingekom, twee Amerikaanse meisies. Wag …” Die mollige meisie slaan die registrasieboek oop en haar vinger loop met die kolom af. “Hier is hulle, Rachel Anderson en Erin Russel, hulle is van …” Sy buk nader om die klein skrif van die adresse te lees. “West Lafayette, Indiana. O, Liewe Vader. Wie’t haar doodgemaak?” “Ons weet nog nie. Is hierdie een Anderson?” “Ek weet nie.” “En die ander een, weet jy waar sy is?” “Nee, ek werk dagskof, ek … Kom ons gaan kyk, hulle is in kamer sestien,” en sy slaan die boek toe en loop vooruit, in die gang af en sy sê: “O, Liewe Vader.”
* * *
Hy kry met versigtige vrae inligting oor die vuurwapen uit haar uit. Dit was haar man s’n. Adam Barnard het dit in ’n kluis toegesluit, in die kamer. Hy’t die sleutel by hom gehou, seker omdat hy bang was sy sal in haar dronkenskap iets onbesonne daarmee aanvang. Sy sê sy weet nie hoe dit langs haar op die mat beland het nie. Sy sê dalk was dit sy wat hom geskiet het, sy het genoeg rede gehad, genoeg verwyt en selfbejammering en haat. Daar was tye dat sy hom dood gewens het, maar haar eintlike fantasie was om haarself dood te maak en hom dan te sien: Hy wat om halfsewe in die aand by die huis aankom en die trappe oploop en haar daar kry, leweloos, en by haar lyk buk en haar om vergifnis smeek, huilend en gebroke. Maar, sê sy met swaar ironie, dié twee dinge wou nooit saamwerk nie. Jy kan niks sien as jy dood is nie. En dan sit sy net en eindelik fluister hy “Soetwater” en sy reageer nie; sy skuil net agter die hare vir ’n ewigheid tot sy die glas stadig na hom toe uithou en hy weet hy sal nog moet skink as hy die hele storie wil hoor.
08:13 – 09:03
8
Bennie Griessel het na Alexa Barnard se verhaal geluister. “Alexa. Niemand noem my Alexandra of Xandra nie.” En nou, net voor hy die voordeur van Brownlowstraat 47 oopmaak om vir Dekker te gaan soek, is daar ’n eienaardige emosie in hom, iets wat druk op sy hart, ’n gewigloosheid in sy kop, ’n sekere verwydering van die werklikheid, asof hy ’n paar millimeter terugstaan van alles, ’n sekonde of twee uit pas is met die wêreld. Daarom neem dit hom ’n rukkie om te besef daar is chaos hier buite: Die straat, stil en rustig toe hy aangekom het, is nou ’n samedromming van mediamense en nuuskieriges: ’n kudde fotograwe, ’n trop verslaggewers, ’n kameraspan van e.tv en die groeiende groep omstanders wat deur hul teenwoordigheid gelok is. Die gedruis spoel oor Griessel, swaar klankgolwe wat hy met sy lyf kan voel, saam met die besef dat hy só intens na Alexa se storie geluister het dat hy heeltemal onbewus was hiervan. Op die stoep hier voor hom staan ’n gespanne Dekker in ’n vuurwarm gesprek met ’n kaalkop man, hul stemme hard in argument. “Nie voor ek haar gesien het nie,” sê die man met ’n meerderwaardige houding en aggressiewe lyftaal. Sy kop is heeltemal skoongeskeer, hy is lank en seningrig, groot, vlesige ore, die een met ’n ronde, silwer oorring. Swart hemp, swart broek en die swart bofbaltekkies wat tieners dra, al lyk hy laat veertigs. Sy prominente adamsappel ruk op en af in ritme met sy woorde. Dekker sien vir Griessel. “Hy dring aan om haar te sien,” sê Dekker, gespanne. Die man ignoreer vir Griessel. Hy knip ’n swart leerhouer aan sy dik swart gordel oop en bring ’n klein swart selfoon te voorskyn. “Ek gaan my prokureur laat kom; hierdie optrede is totaal onaanvaarbaar.” Hy begin knoppies op die selfoon druk. “Sy’s nie ’n gesonde vrou nie.”
“Hy’s die oorledene se vennoot. Willie Mouton,” sê Dekker. “Meneer Mouton,” sê Griessel, met redelikheid. Sy stem klink vir hom vreemd. “Fokkof,” sê Mouton. “Ek praat oor die telefoon.” Sy stem het die deurdringingsvermoë en toonhoogte van ’n industriële bandsaag. “Meneer Mouton, ek sal nie toelaat dat jy só met ’n polisieoffisier praat nie,” sê Dekker met ’n stygende stem. “En as jy persoonlike oproepe wil maak, dan doen jy dit daar in die straat …” “Dis ’n vry land, sover ek weet.” “… en nie op my moordtoneel nie.” “Jou moordtoneel? Wie de fok dink jy is jy?” En dan, in die foon: “Sorry. Kan ek met Regardt praat, asseblief …” Dekker tree dreigend nader, sy humeur besig om handuit te ruk. “Regardt, dis Willie, ek staan hier op Adam se stoep met die Gestapo …” Griessel sit ’n hand op Dekker se arm. “Daar’s kameras, Fransman.” “Ek gaan hom nie moer nie,” sê Dekker en ruk vir Mouton hardhandig van die stoep af en stoot hom tuinhekkie se kant toe. Kameras flits en klik. “Hulle is besig om my aan te rand, Regardt,” sê Mouton, met minder selfvertroue. “Môre, Nikita,” sê prof. Phil Pagel, die staatspatoloog, van anderkant die hek met ’n geamuseerde uitdrukking op sy gesig. “Môre, prof,” sê Bennie en kyk hoe Dekker vir Mouton deur die hekkie stoot tot op die sypaadjie en vir die uniform sê: “Jy laat hom nie hier inkom nie.” “Ek gaan julle gatte sue,” sê Mouton. “Regardt, ek wil hê jy moet hulle fokken gatte sue. Ek wil hê jy moet nou hiernatoe kom met ’n fokken interdik; Alexa sit daar binne en die fok weet wat hierdie stormtroepe met haar doen …” sy stem opsetlik hard sodat Dekker én die media hom kan hoor.
Pagel skuur by die ruiter in swart verby en stap met die trappies op, swart tas in die hand. “What a piece of work is man,” sê hy. “Prof?” sê Griessel en skielik is die verwydering weg, is hy terug by die hede, sy kop skoon. Pagel kom skud Griessel se hand. “Hamlet. Aan Rosencrantz en Guildenstern. Net voor hy sê die mens is ‘a quintessence of dust’. Ek was gisteraand by die opvoering, hoogs aan te beveel. Besige oggend, Nikita?” Pagel noem hom al twaalf jaar lank “Nikita”. Want die eerste keer toe hy vir Griessel ontmoet het, het hy gesê: “Ek is seker dis hoe ’n jong Kroetsjef gelyk het,” en Griessel moes hard dink wie Kroetsjef is. Pagel is flambojant aangetrek, soos gewoonlik – lank en fiks en uit-sonderlik aantreklik vir sy iets in die vyftig jaar; daar’s mense wat sê hy lyk soos die ster van die een of ander televisiesepie wat Griessel nog nooit gesien het nie. “Dit gaan rof, soos gewoonlik, prof.” “En ek verstaan jy mentor nou ’n nuwe generasie wetstoeers, Nikita.” “Soos prof kan sien, ek’s briljant in my jop,” grinnik Griessel. Dekker kom met die stoeptrappies op. “Het prof al vir Fransman ontmoet?” “Ek het inderdaad al die voorreg gehad. Inspekteur Dekker, ek bewonder jou daadwerklikheid.” Dekker se spanning het nog nie gesak nie. “Môre, prof.” “Gerugte wil dit hê dat Adam Barnard die slagoffer is?” Hulle knik saam, in gelid. “Take arms against a sea of troubles,” sê Pagel. Die speurders kyk onbegrypend na hom. “Ek misbruik Hamlet om te sê hier kom groot moeilikheid, kollegas.” “Aaa,” sê die speurders. Hulle verstaan.
* * *
In die biblioteek staan hulle en praat terwyl Pagel by die lyk kniel en sy dokterstas oopmaak. “Dit was nie sy nie, Fransman,” sê Griessel. “Jy’s honderd persent seker?” Griessel haal sy skouers op. Niemand kan honderd persent seker wees nie. “Dis nie net wat sy sê nie, Fransman. Dis hoe dit by die toneel inpas …” “Sy kon iemand gehuur het.” Griessel moet toegee dié argument het meriete. Vroue wat ander betaal om van hul eggenote ontslae te raak, is die nuwe nasionale sport. Maar hy skud sy kop. “Ek twyfel. Jy huur nie mense om dit te laat lyk of jy dit gedoen het nie.” “In hierdie land is enigiets moontlik,” sê Dekker. “Amen,” sê Pagel. “Prof, die ‘sea of troubles’ … Het jy vir Barnard geken?” vra Griessel. “Ten dele, Nikita. Hoorsê-getuienis, meestal.” “Wat is sy storie?” vra Dekker. “Musiek,” sê Pagel. “En vroumense.” “Dis wat sy vrou ook sê,” sê Griessel. “Asof sy nog nie genoeg gely het nie,” sê Pagel. “Hoe so, prof?” vra Dekker. “Jy weet sy was ’n ster?”
“Nee, prof,” verstom. Pagel kyk nie op as hy praat nie; sy hande is behendig besig met sy instrumente en die liggaam. “Barnard het haar ‘ontdek’, hoewel ek nog nooit gemaklik was met dié begrip nie. Maar laat ek my onkunde beken, kollegas. Soos julle weet, lê my liefde eintlik by die klassieke. Ek weet hy was ’n prokureur wat by die musiekbedryf betrokke geraak het. Xandra was sy eerste ster …” “Xandra?” “Dit was haar verhoognaam,” sê Griessel. “En sy’t gesing?” “Inderdaad. Baie goed ook,” sê Pagel. “Hoe lank terug was dit, prof?” “Vyftien jaar, twintig?” “Ek het nog nooit van haar gehoor nie,” sê Dekker kopskuddend. “Sy het van die toneel verdwyn. Redelik skielik.” “Sy’t hom gevang met iemand anders,” sê Griessel. “Toe begin sy drink …” “Dit is wat die gerugte ook sê. Menere, nie-amptelik en onbevestig: Ek vermoed die tyd van dood is so min of meer …” Pagel kyk na sy horlosie. “… tussen twee-uur en drie-uur vanoggend. Soos julle sekerlik afgelei het, is die oorsaak van dood twee skote van ’n kleinkaliber-vuurwapen. Die posisionering van die wonde en geringe ontstekingsresidu dui op ’n skietafstand van twee tot vier meter … en ’n redelike goeie skut; die twee wonde is minder as drie sentimeter uit mekaar.” “En hy’s nie hier geskiet nie,” sê Dekker. “Inderdaad.” “Net twee wonde?” vra Griessel. Die patoloog knik.
“Daar’s drie rondtes afgevuur met sy pistool …” “Prof,” sê Dekker, “sy sê sy’s ’n alkoholis. Sy sê sy was dronk gisteraand. Ek het bloed laat trek, maar sal dit help, agt of tien uur ná die tyd?” “A, Fransman, ons het deesdae etiel-glukuronied, wat alkoholvlakke se neerslag tot 36 uur ná die tyd in die bloed kan opspoor. En met ’n urinemonster, tot vyf dae ná inname.” Dekker knik, tevrede. “Maar ek moet my gewig agter Nikita se teorie ingooi. Ek dink nie dit was sy nie.” “Hoe so, prof?” “Kyk na hom, Fransman. Hy’s in die omtrek van 1,9 meter, hy is effens oorgewig, ek skat so iewers aan die verkeerde kant van honderd-en-tien kilogram. Ek en jy gaan sukkel om sy liggaam by daardie trappe op te dra – en ons is nugter.” Pagel begin sy apparaat oppak. “Kom ons kry hom by die lykshuis; ek kan nie nou veel meer doen nie.” “Iemand het baie moeite gedoen om hom hier te kry,” sê Dekker. “And therein lies the rub,” sê Pagel. “Vroumense …” bespiegel Dekker. Pagel staan op. “Moenie die Afrikaanse musiekbedryf as potensiële bron van konflik afskryf nie, Fransman.” “Prof?” “Volg jy die populêre media, Fransman?” Dekker haal sy skouers op. “A, die lewe van die wetstoeer, all work and no play. Daar’s geld in die Afrikaanse musiekbedryf, Fransman. Gróót geld. Maar dit is net die oortjies van die seekoei. Die intriges is legio. Skandale van egbreuk, teistering, pedofilie …
Meer lang messe en oënskynlike rugstekery as in Julius Caesar. Hulle baklei oor alles – back tracks, kontrakte, kunsmeriete, tantième, wie ’n musiekblyspel oor watter geskiedkundige figuur mag maak, wie watter plek in die musiekgeskiedenis verdien …” “Maar hoekom, prof?” vra Griessel, diep teleurgesteld. “Mense is mense, Nikita. En as daar groot roem en rykdom op die spel is … Dis die gewone ding: Daar’s klieks en kampe, groot ego’s, kunstenaarstemperament, fyngevoeligheid, haat, jaloesie, afguns, naywer, daar’s mense wat al jare lank nie meer met mekaar praat nie, nuwe vyandskappe … die lys is eindeloos. En onse Adam was in die middel van dit alles. Is dit genoeg om moord te inspireer? Soos Fransman tereg opgemerk het: In hierdie land is enigiets moontlik …” Jimmy en Arnold van Forensies kom by die deur in. “O, daar’s prof, môre, prof,” sê Arnold, die dikke. “Rosencrantz en Guildenstern are here. Môre, menere.” “Prof, kan ons vir prof iets vra?” “Natuurlik.” “Prof, die ding is …” sê Arnold “Vrouens …” sê Jimmy. “Hoekom is hulle borste so groot, prof?” “Ek meen, kyk na diere …” “Baie kleiner, prof …” “Jissis,” sê Fransman Dekker. “Ek sê dis revolusie,” sê Arnold. “Evolusie, jou swaap,” sê Jimmy. “Whatever,” sê Arnold.
Pagel kyk na hulle met die welwillendheid van ’n geduldige ouer. “Interessante vraag, kollegas, maar ons sal die gesprek later moet voortsit. Kom maak ’n draai in Soutrivier.” “Ons is nie lykshuis-ouens nie, prof …” Dekker se selfoon lui. Hy kyk na die instrument. “Dis Cloete,” sê hy. “And let the kettle to the trumpet speak,” sê Pagel op pad deur toe, want Cloete is die SAPS se skakeloffisier wat die media moet hanteer. “Totsiens, kollegas.” Hulle groet die patoloog en luister hoe Fransman Dekker vir Cloete die opspraakwekkende besonderhede gee. Griessel skud sy kop. Hier kom ’n ding; kyk hoe lyk dit al klaar daar buite. Dan lui sy eie selfoon. Hy antwoord: “Griessel.” “Bennie,” sê Vusi Ndabeni. “Ek dink jy moet kom.”
9
Rachel Anderson kruip in die klofie af. Dit word dieper namate sy vorder, die sykant nou hoog, ru, onbegaanbaar. Dit keer haar vas, maar dit bied skuiling sodat sy kan staan, want hulle sal haar moeilik sien. Die berg se helling word skerper, die terrein moeiliker. Kort ná agt en dit is sweetwarm hier. Sy moet afklim, aan rotse en die wortels van struike vashou, sy sweet, haar keel is droog, haar knieë kan nie meer nie. Sy moet water kry, sy moet iets kry om te drink, sy moet aanhou beweeg. En dan sien sy die paadjie uit, na regs, trappies wat uit die rots en grond gekap en gegrawe is. Sy staar daarna. Sy weet nie wat daar bo vir haar gaan wag nie.
* * *
Alexa Barnard sien hoe hulle haar man se lyk by die deur verbydra en haar gesig vertrek van emosie. Tinkie Kellerman staan op, kom sit op die rusbank langs haar en lê ’n sagte hand op haar arm. Alexa voel die verskriklike drang om deur die tengerige polisievrou vasgehou te word. Maar sy sit net, skuif haar arms sodat sy haar eie skouers vashou, ’n desperate selfomhelsing, en sy laat haar kop sak en sy sien hoe die trane op die wit materiaal van die kamerjas se mou drup en dan verdwyn, asof hulle nooit bestaan het nie.
* * *
Rachel Anderson klim tot amper bo en dan kyk sy met ’n kloppende hart oor die
rand van die klofie. Net die berg. En stilte. Nog ’n trappie hoër en sy besef skielik hulle kan haar van agter af sien en sy draai verskrik om, maar daar is niemand nie. Die twee laaste trappies, versigtig. Aan haar linkerkant is die dakke van huise, die laaste ry bo teen die berg. Voor haar is ’n voetpaadjie wat agter die huise langs loop, met bome wat skuiling en skadu bied. Regs van haar is die steilte van die berg, dan die bergmassa self. Nog een keer kyk sy terug, dan stap sy haastig met die paadjie aan, haar kop omlaag.
* * *
Griessel ry terug Langstraat toe, die verkeer nou ligter. Vusi het gesê hy moet na die Cat & Moose toe kom. “Wat gaan aan?” het hy gevra. “Ek sê jou as jy hier is,” met die intonasie van iemand wat in die teenwoordigheid van ander praat. Maar dit is nie waaroor Griessel wonder nie. Hy sit in die polisiemotor en hy dink aan Alexa Barnard. Aan haar stem en haar storie, aan haar skoonheid wat agter twintig jaar se drink skuil. Hy wonder of ’n mens se kop haar jonger, mooier beeld in die geheue gaan opdiep en op die doek van haar huidige gelaat projekteer, sodat jy die twee saam sien – die hede en die verlede, so ver van mekaar en so onafskeibaar. En dan dink hy aan die intensiteit waarmee sy die jenewer gedrink het en hy weet dit was ’n gevaarlike ding om te sien, dié genesing. Dit het sy eie lus gaan lostorring sodat dit nou hier in hom hang, soos duisend los drade. Sodat sy kop vir hom sê daar is ’n drankwinkel net hier, in Kloof, wat alles weer kan konnekteer, wat die stroombane sal herstel sodat die elektrisiteit van die lewe weer teen volle sterkte kan vloei. “Here,” sê Bennie vir homself en draai doelbewus links in Breë, weg van die versoeking af.
* * *
Wanneer die trane bedaar, sê Tinkie Kellerman: “Kom, ek dink jy sal beter voel as jy gebad het.” Alexa knik en staan op. Sy loop, effe onvas, sodat die polisievrou haar moet stuur, op met die trappe, deur die biblioteek, in die gang af, tot by die kamerdeur. “Ek dink jy moet hier wag.” “Ek kan nie,” Tinkie se stem vol deernis. Alexa staan vir ’n oomblik. Dan dring die betekenis tot haar deur. Hulle is bang sy doen iets. Aan haarself. En sy weet die moontlikheid bestaan. Maar eers wil sy by die drank uitkom, die vier sentimeter jenewer in die bottel agter haar onderklere. “Ek sal niks doen nie.” Tinkie Kellerman kyk net na haar met groot, meelewende oë. Alexa loop by die kamerdeur in. “Jy bly net uit die badkamer uit.” Sy sal die bottel saam met haar klere uit die kas haal. Haar lyf sal haar skuiling wees. “Sit daar,” knik sy haar kop na die stoel voor die spieëlkas.
* * *
Fransman Dekker hoor die knaende geklop aan die voordeur. Hy gaan maak oop. Willie Mouton, die kaalkop in swart, staan op die voorstoep, saam met ’n alter ego – ’n ewe skraal man, maar met ’n vol bos swart hare, pynlik netjies in ’n kantpaadjie gekam, en die voorkoms van ’n begrafisondernemer: lang, somber gesig, oë wat al alles gesien het, donker pak klere en steenkoolkleurige das. “My
prokureur is hier. Nou’s ek reg vir jou.” “Nou’s jy reg vir my?” Sy humeur vlam op oor die wit man se afpraat na ’n kleurling, maar buite in die straat is lang lense op hulle gerig, toeskouers en media wat skrum teen die heining. “Regardt Groenewald,” sê die prokureur verskonend en steek sy hand versigtig uit, ’n vredestaak, sodat Dekker ratte moet verwissel. Hy skud die lang, onsekere hand. “Dekker,” sê hy, en kyk die prokureur op en af. Hy het ’n Dobermann verwag, nie dié bassethond van ’n man nie. “Hy bedoel maar net ons is reg om te gesels,” sê Groenewald. “Waar is Alexa?” vra Mouton en kyk by Dekker verby, die huis in. Groenewald verskuif die slap vingers na Mouton se arm, asof hy hom wil terughou. “Sy word versorg.” “Deur wie?” “Deur ’n offisier van Maatskaplike Dienste.” “Ek wil haar sien.” ’n Wit man se opdrag, maar weer ontlont die prokureur dit. “Stadig, Willie.” “Dit is nie nou ’n opsie nie,” sê Dekker. Mouton kyk verwytend na sy prokureur. “Hy kan dit nie doen nie, Regardt.” Groenewald sug. “Ek is seker hulle het haar regte aan Alexa verduidelik, Willie.” Hy praat apologeties, stadig, afgemete. “Maar sy’s ’n siek vrou.” “Mevrou Barnard het verkies om sonder ’n regsverteenwoordiger te praat.” “Maar sy is nie compis mentos nie,” sê Mouton. “Compos mentis,” sê Groenewald geduldig.
“Mevrou Barnard is nie op die oomblik ’n verdagte in die saak nie,” sê Dekker. “Dis nie wat Adam se bediende gesê het nie.” “Sover ek weet, werk die huishulp nog nie vir die SAPS nie.” “Sien jy, Regardt. Dis hoe hulle is. Slimgatte. En dit nadat ek my vriend en kollega verloor het …” “Willie, meneer Dekker, laat ons almal net kalmeer …” “Ek is kalm, Regardt.” “My kliënt het inligting wat met die saak verband hou,” sê Groenewald. “Watse inligting?” “Pertinente inligting. Maar kan ons nie …” “Dan is dit sy plig om dit aan my oor te dra.” “Nie as jy slimgat met my raak nie.” “Meneer Mouton, jy het nie ’n keuse nie. Weerhouding van inligting …” “Asseblief, menere …” sê Groenewald, pleitend. Dan, baie versigtig: “Miskien moet ons liewer binne gesels?” Dekker huiwer. “My kliënt het ’n sterk vermoede wie vir Adam Barnard om die lewe gebring het.” “Maar ek wil nie laster nie,” sê Mouton. “Willie, laster is onder die omstandighede nie ter sprake nie.” “Jy weet wie vir Barnard geskiet het?” “My kliënt het nie bewyse nie, maar voel dit sy siviele plig om die beskikbare inligting met die Gereg te deel.”
Fransman Dekker kyk na die skare, dan na Groenewald en Mouton. “Ek dink julle moet inkom.”
* * *
Rachel Anderson loop met die soom van die berg langs, in die voetpaadjie, nou haastiger, want dit is gelyke grond en sy het die skuiling van dennebome agtergelaat. Daar is net die huise links onder, groot plekke met swembaddens, digte tuine, hoë mure. En daaragter lê die stad en die lang swiep van Tafelbaai, ’n poskaart van helderblou see en die klompie toringblokke wat bymekaar hurk, asof hulle solidariteit in die nabyheid soek. Dit is ’n leuen, dink sy, dié skoonheid. ’n Valse front. Sy en Erin het hulle daardeur laat mislei. Voor haar draai die paadjie na regs, om verby ’n reservoir te kom. Die hoë grondwal sal haar wegsteek vir ’n paar honderd meter.
* * *
Agter die toe badkamerdeur trek Alexa Barnard haar japon en slaapklere uit en dan vat sy die bottel onder die kledingstukke wat sy ingedra het. Sy skroef die prop af met ’n bewende hand. Daar is nie veel in nie. Sy bring dit na haar lippe en drink. Die beweging eggo in die lang spieël en sy kyk onwillekeurig daarna: Haar kaal lyf, die vroulikheid so nutteloos, haar vuil, lang hare in slierte in en om die gesig, stoppels van onderarmhare, mond oop, bottel desperaat hoog gelig om die laaste druppels te tap. Sy skrik vir dié demoon, vir die doelgerigtheid waarmee die spieëlbeeld op die bottel fokus. Wie is dit wat daar staan?
Sy draai weg, drink die bottel leeg, maar vind nie verligting nie. Sy sit dit op die vloer neer en leun teen die muur met ’n uitgestrekte arm. Is dit sy wat daar staan? “Soetwater,” het die simpatieke speurder met die eienaardige gelaatstrekke en die deurmekaar hare gesê. “Hoe het jy tot hier gekom?” het hy bedoel. Sy het vir hom vertel, maar dit was voor dié spieëloomblik, onvolledig. Sy draai terug en kyk weer vir die vrou in die weerkaatsing. Die lang lyf lyk so weerloos. Die bene, die heupe, die maag wat met ’n klein ronding hang, die ferm borste, die lang tepels, die nek waar die vel nie meer glad span nie. Die gesig, afgeleef, opgebruik, opgedrink. Dit is sy. Háár lyf, háár gesig. Here. “Hoe hét jy tot hier gekom?” Daar’s ’n opregte nuuskierigheid in haar stem. Sy ruk weg, loop in die stort in. Tot hier, maar sy wil nie verder nie. Sy kan nie. Maak die krane meganies oop. Adam is dood. Wat gaan sy doen? Vanaand? Môre? Die angs wat in haar opstoot, is groot, sodat sy met haar palms teen die teëls moet druk om staande te bly. Sy staan vir ’n oomblik só, die water te warm, maar sy voel dit nie. Die pille, dit is wat sy moet kry, die slaappille, sodat sy kan wegdryf, weg van die vrou in die spieël, weg van dié verterende vrees, die dors, die donkerte voor haar. Die pille is in die kamer, waar Tinkie Kellerman sit. Dan sal sy iets anders moet kry. Hier, in die badkamer. Sy trap uit die stort uit met ’n dringendheid, pluk die badkamerkassie oop, haar hande bewend, te haastig, botteltjies wat omval, niks wat sy kan gebruik nie. Sy vat haar skeermes, kyk na die nutteloosheid daarvan, smyt dit weg, teen die deur, krap rond in die kassie, hier is niks, niks …
“Mevrou?” kom dit van anderkant die deur. Alexa Barnard draai om en sluit die deur. “Los my uit.” Dit is nie haar stem nie. “Mevrou, asseblief …” Sy sien die drankbottel. Sy vat dit aan die tuit, slaan dit stukkend teen die muur. ’n Glasstuk spat teen haar voorkop. Sy kyk na die skerp lem wat in haar hand agterbly. Sy lig haar linkerarm en sy sny met geweld, diep en desperaat, van die palm na die elmboog. Die bloed is ’n fontein. Sy sny weer.
* * *
In die sitkamer is Mouton en Groenewald langs mekaar op die groot bank, Dekker oorkant. “Ek het nie bewyse nie,” sê Mouton. “Sê hom net wat gebeur het, Willie.” Hulle is soos daardie twee in die ou swart-wit rolprente, dink Dekker. Wat was hulle name? “Daar het ’n ou by my kantoor ingebars en gesê hy gaan vir Adam doodmaak …” “En wie is dié ou?” Mouton wend hom tot sy prokureur. “Jy’s seker dis nie laster nie, Regardt?” “Ek is seker.” “Maar wat as ek moet getuig?” “Willie, laster sal nie ter sprake wees nie.” “Dit kan hulle loopbaan vernietig, Regardt. Ek meen, sê nou dis nie hy nie.”
“Willie, jy het nie ’n keuse nie.” Laurel en Hardy, onthou Dekker. Twee wit grapjasse. Hy vra: “Meneer Mouton, wie was dit?” Hy trek sy asem diep in, adamsappel oorgehaal soos ’n haan. “Dit was Jos Geyser,” en hy sit terug asof hy ’n storm losgelaat het. “Wie?” “Die gospelsanger,” sê Mouton ongeduldig. “Van Jos en Melinda.” “Ek ken hulle nie.” “Jos en Melinda? Almal ken hulle. Sestigduisend van die nuwe CD, vierduisend op een dag, toe hulle op RSG se Musiekster was. Hulle is groot.” “En waarom sou Jos Geyser vir Adam Barnard wou doodmaak?” Mouton leun sameswerend vorentoe en praat skielik sag: “Want Adam het vir Melinda in sy kantoor gelooi.” “Gelooi?” “Jy weet … Hy’t met haar seks gehad.” “In Barnard se kantoor?” “Dis reg.” “En toe vang Geyser hulle?” “Nee. Toe bely Melinda.” “Aan Jos?” “Hoër op. Maar Jos was by toe sy gebid het.” Fransman Dekker maak ’n geluid, iewers tussen ’n lag en ongeloof. “Meneer Mouton, jy is nie ernstig nie.”
“Ek is!” Verontwaardig. “Dink jy ek sal in sulke tye hier sit en grappies maak?” Dekker skud sy kop. “Gistermiddag toe kom Jos Geyser met ’n moerse spoed verby Natasha en hy breek omtrent my deur af en hy sê hy soek vir Adam en ek sê hoekom en hy sê hy gaan vir Adam doodmaak, want hy het Melinda ge-rape. Toe sê ek ‘hoe kan jy dit sê, Jos?’, toe sê hy Melinda het gesê. Toe sê ek ‘wat het sy gesê?’, toe sê hy sy’t gebid en bely oor die Groot Sonde in Adam se kantoor, op die lessenaar, sy’t gesê dit was die duiwel, maar hy wat Jos is, weet van Adam se dinge. En hy gaan hom doodbliksem. Hy was malkwaad, hy’t my amper gegryp, want toe sê ek dit klink nie na rape nie, hy’s hierdie helse groot ou, hy was ’n Gladiator voor hy bekeer is …” En dan laat Mouton weer sy stem sak: “Die storie is, hy kan nie … jy weet … dit opkry nie, oor die steroids …” “Dis nie ter sake nie, Willie,” sê Groenewald. “Dit gee hom motief,” sê Mouton. “Nee, nee …” sê die prokureur “Doodbliksem?” vra Dekker. “Dis wat hy gesê het?” “Hy’t ook gesê hy gaan hom vrekmaak … nee, hy gaan hom fokken vrekmaak, hy gaan Adam se balle uitsny en hulle bo die platinum-CD in sy voorhuis raam.” “Adam se dinge? Na watter ‘dinge’ het Geyser verwys?” “Adam is …” En dan huiwer Mouton. “Ek kan nie glo Adam is dood nie.” Hy sit terug en vat aan sy kaal kop. “Hy was my vriend. My vennoot. Ons kom ’n lang pad saam … Ek het vir hom gesê eendag gaan iemand …” Daar daal ’n stilte neer. Mouton vee met die agterkant van sy hand oor sy oë. “Ekskuus,” sê Mouton. “Dis vir my sleg …” Die prokureur steek weer sy lang, skraal hand na sy kliënt uit. “Dis te verstane, Willie …” “Hy was hierdie moerse presence …”
En dan hoor Dekker die hoë, dringende stem van Tinkie Kellerman: “Fransman!” Hy kom vinnig orent en loop deur toe. “Fransman!” “Hier,” roep hy. Hy sien vir Kellerman op die bopunt van die trap. “Kom help,” sê sy. “Maak gou.”
* * *
Honderd meter anderkant die reservoir draai die paadjie links, bergaf, stad se kant toe, in ’n wye, vlak klofie. Rachel Anderson stap tussen dennebome deur, volg die roete om groot rotsblokke, sien die klipmuurtjie voor haar met die deurgang in die middel en daar voor regs, ’n byna voltooide huis agter ’n groot akkerboom. Die koelte is ’n diep skadukol, ’n plek vir rus, maar eers dink sy aan ’n kraan, haar dors is ’n vuurwarm koors. Sy loop verby die motorhuis, haar oë soekend, straat se kant toe. ’n Opgesaagde denneboom lê die dubbelmotorhuis se deur vol, die stompe netjies gestapel. Sy sien die kraan langs die agterdeur van die huis, sy bid dat dit sal werk, sy loop vinniger, buk, draai dit oop. Die silwer water stroom daaruit, vir ’n paar sekondes warm, dan skielik koel. Sy gaan sit op een knie, draai die kraan effens toe en dan drink sy, só, direk uit die tuit uit.
* * *
Fransman Dekker het al genoeg deure oopgedwing om te weet jy gebruik nie jou skouer nie. Hy tree terug en hy skop. Dit splinter, maar bly toe. Hy skop weer, twee keer, voor dit breek en net veertig sentimeter oopswaai. Dit is genoeg om
die bloed te sien. “Ag, liewe Here,” sê Tinkie Kellerman agter hom. “Wat?” sê Willie Mouton en probeer by haar verbykom. “Meneer, jy kan nie …” Dekker is in die badkamer. Hy sien vir Alexa Barnard lê. Hy trap in die bloed en draai haar kaal liggaam om. Haar oë is oop, maar sonder fokus. “Ambulans,” roep hy vir Tinkie. “Nou.” Hy buk en kyk na die skade. Haar linkerpols is diep gesny, minstens drie keer. Die bloed loop steeds daaruit. Hy gryp ’n kledingstuk wat op die vloer lê en begin dit om die wonde draai, so styf as wat hy kan. Alexa sê vir hom iets, byna onhoorbaar. “Mevrou …” sê hy. “Die ander arm,” fluister sy. “Ekskuus?” “Sny die ander arm, asseblief,” en sy hou met ’n moeë hand die bottelskerf na hom toe uit.
* * *
Sy les haar dors en was die bloed van haar hande en arms en gesig af en dan staan sy op, draai die kraan toe en haal diep asem. Die stad is net hier onder … Sy loop om die hoek van die huis, nou minder angstig, haar vrees deur die water getemper. En dan sien sy hulle, net twintig tree weg, in die straat. Sy steek vas, skrik met ’n
snak. Hulle staan met hul rûe na haar toe, langs mekaar. Sy ken hulle. Sy staan versteen, sy hoor die oorverdowende klop van haar hart. Hulle kyk in die straat af wat ondertoe loop. Die een draai sy kop, sê iets. Gaan hy haar sien? Hy kyk weer vorentoe. Sy gee ’n tree agteruit, nog een. Hulle kyk steeds bergaf. Die motorhuis. Met die boomstompe. Sy moet daar in. Vyf tree agter haar. Sy is te bang om van hulle weg te kyk, sy skuifel agteruit, doodbang sy sal op iets trap. As hulle net nie omkyk nie. Sy is langs die kant van die motorhuis, nog net een tree. En dan begin die een omdraai. Die een by wie alles begin het. Die een wat met die mes by Erin gebuk het.
10
In die ontbytkamer van die Cat & Moose Youth Hostel and Backpackers Inn sit die negentienjarige Oliver “Ollie” Sands met sy kop in sy hande. Hy is effens oorgewig, rooi hare, sy ligte vel het te veel son gehad en sy hoekige swartraambril lê voor hom op die tafel. Oorkant hom, naby die deur, sit inspekteurs Vusumuzi Ndabeni en Bennie Griessel. “Mr Sands has identified the victim as Miss Erin Russel,” sê Vusi, met die foto van die slagoffer en sy notaboek voor hom. “Geez,” sê Sands en skud sy kop agter sy hande. “He’s been travelling through Africa with Miss Russel and her friend, Rachel Anderson. He does not know where Miss Anderson is. The last time he saw them, was last night in the Van Hunks, the nightclub. In Castle Street.” Vusi kyk na Sands vir bevestiging. “Geez,” sê die jong man, laat sy hande sak en trek sy bril nader. Griessel kan sien sy oë is rooi. “Mr Sands, you arrived in Cape Town yesterday?” “Yes, sir. From Namibia,” die aksent onmiskenbaar Amerikaans, die stem, onvas, emosioneel. Sands sit die bril op sy neus en sy oë knip, asof hy Vusi vir die eerste keer sien. “Just the three of you?” vra Griessel. “No, sir, we were twenty-one. Twenty-three, actually, when we left Nairobi on the tour. But a guy and a girl from the Netherlands pulled out in Dar. They … didn’t like it.” “A tour?” vra Griessel. “The African Adventure tour. Overland, with a truck.”
“And you and the two girls were together?” “No, sir, I met them in Nairobi. They’re from Indiana, I’m from Phoenix in Arizona.” “But you were with the girls last night?” vra Vusi. “A whole bunch of us went to the club.” “How many?” “I don’t … Maybe ten, I’m not sure.” “But the two girls were part of the group?” “Yes, sir.” “What happened at the club?” “We had a good time. You know …” Sands haal weer die bril af, vryf oor sy oë. “ … we had a few drinks, we danced a little …” Hy sit die bril terug. Die gebaar maak Griessel agterdogtig. “At what time did you leave?” vra Vusi. “I … I was a little tired. I came back at about eleven.” “And the girls?” “I don’t know, sir.” “They were still at the club when you left?” “Yes, sir.” “So the last time you saw Miss Russel alive, was at the club?” Sands se gesig vertrek van emosie. Hy knik net, asof hy nie sy stem vertrou nie. “And they were drinking and dancing.”
“Yes, sir.” “They were still with the group?” “Yes.” “Could you give us the names of the people they were with?” “ I guess … Jason was there. And Steven, Sven, Kathy …” “Do you know the surnames?” Vusi trek sy notaboek nader. “Not all of them. It’s Jason Dicklurk, and Steven Cheatsinger …” “Could you spell that for us? “Well, Jason, you know, J.A.S.O.N. and … I’m not sure about spelling his surname … Can I … “Is Steven with a P.H. or a V?” Vusi se pen net bo die notaboek. “I don’t know.” “Steven’s surname?” “Wait … Is it O.K. if I get the list? With all the names, the guides and everybody …” “Please.” Sands staan op en loop deur se kant toe. Hy steek vas. “I have pics. Of Rachel and Erin.” “Photographs?” “Yes.” “Could you get them?” “They’re on my camera, but I can show you …”
“That would be good.” Ollie Sands loop by die deur uit. “As ons ’n foto van die missing girl kan kry …” sê Vusi. “Hy steek iets weg,” sê Griessel. “Oor gisteraand.” “Dink jy, Bennie?” “Netnou, toe hy sy bril afgehaal het … Hy’t begin lieg.” “Hy’t gehuil voor jy gekom het. Miskien was dit …” “Hy steek iets weg, Vusi. Met brildraers … hulle het ’n manier … Daar is …” En dan huiwer Griessel; hy het met Dekker geleer dat hy sy mentorskoene versigtig moet neersit. “Vusi, ’n ou leer dinge so oor die jare, met ondervraging …” “Jy weet ek wil leer, Bennie.” Griessel staan op. “Kom sit hier, Vusi. Jy wil altyd jou ondervraagde se rug na die deur toe hê …” Hy skuif die stoele, gaan sit op die een. Vusi kom sit langs hom. “Jy sal sien, as hulle iets het om weg te steek … Sê nou maar hy sit hier, skuins, dan sal hy sy bene deur toe draai. Dan’s die tekens nie so duidelik nie. Maar met die deur agter hom, voel hy vasgekeer. Dan raak die tekens duideliker, hulle sweet, vinger kort-kort in die kraag, been of voet van spring, hand oor die oë, of brildraers wat die bril afhaal. Hierdie een het dit gedoen toe hy begin praat het van vroeg terugkom gisteraand …” Ndabeni het elke woord ingedrink. Hy sê: “Dankie, Bennie. Ek sal hom vra.” “Is hy die enigste een wat hier is, van die groep?” “Ja. Daar’s van hulle wat al gisteraand gevlieg het. Die ander is iewers. ’n Wyntoer. Of teen die berg uit.” “En dié een was hier?” “Hy was nog in die bed.”
“Nou hoekom sou dit wees?” “Goeie vraag.” “Weet jy hoe om vir sy oë te kyk, Vusi?” Die swart speurder skud sy kop. “Jy kry hom eers om iets neer te skryf, sodat jy kan weet of hy links of regs is. Dan kyk jy vir oogbeweging as hy antwoord …” En dan lui Griessel se selfoon en hy sien die naam op die skerm. AFRIKA. “Dis die kommissaris,” sê hy voor hy antwoord. Vusi se wenkbroue lig. “Griessel,” neem hy die oproep. “Bennie, wat die fok gaan aan?” vra die streekkommissaris: Speurdienste en Misdaadintelligensie, so hard dat Vusi hier langs hom ook hoor. “Kommissaris?” “Hier bel ’n prokureur my, Groenewoud of Groenewald of iets, praat so suutjiespoep stadig soos ’n sendingpredikant, hy sê julle het só kak aangejaag met ’n Adriaan Barnard se vrou …” “Adam Bar …” “Dit maak nie ’n fok saak nie,” sê John Afrika. “Nou’t die vrou gaan staan en selfmoord pleeg omdat julle haar in haar moer in geïntimideer het en sy het niks met die hele fokken ding te doene nie …” ’n Hand om sy hart. “Is sy dood?” “Nee, sy’s nie fokken dood nie, maar jy’s daar om te mentor, Bennie, dis die rede hoekom ek jou ingebring het, kan jy dink wat die pers hiermee gaan maak, ek hoor Barnard is ’n fokken celebrity …” “Kommissaris, niemand het …” “Jy kry my by die hospitaal, jy en Fransman Dekker, hy kan nie sy fokken ambisie beheer nie en as ek vir hom cover, dan sê hulle dis omdat hy ook ’n
hotnot is, ek beskerm net my mense, waar de fok is jy, in elk geval?” “By Vusi, kommissaris … Die kerkmoord …” “En nou hoor ek dis ’n Amerikaanse toeris, jissis, Bennie, net op ’n Dinsdag, ek sê jou. By die hospitaal, Bennie, ek kry julle daar, vyf minute,” en dan is die lyn dood en Bennie dink dis hy wat vir Alexa Barnard die drank gegee het en die kommissaris het nie gesê watter hospitaal nie, en dan loop Oliver “Ollie” Sands in met die kamera in sy hand en hy huil weer as hy na die skerm agter op die apparaat kyk. Hy hou dit só dat die speurders kan sien. Bennie Griessel kyk daarna en hy voel hoe ’n skimhand om sy hart kom druk, die bekende beklemming. En die vrees. Want Rachel Anderson en Erin Russel staan daar, laggend en mooi en sorgeloos, met Kilimandjaro op die agtergrond. Jonk en bruisend, soos sy dogter Carla, deel van die Groot Avontuur.
* * *
Rachel Anderson lê op haar maag agter die stapel dennehoutstompe, in die koelte van die byna voltooide motorhuis, en probeer haar asem beheer. Sy dink hulle het haar gesien, want sy hoor die voetstappe en die stemme wat al hoe nader kom. “… more people,” sê die een. “Maybe. But if the Big Guy comes through, we’ll have more than enough.” Sy ken hul stemme. Hulle gaan staan, hier reg voor die motorhuis. “I just hope to God she’s still out there.” “Fucking mountain. It’s huge. But if she moves, Barry will spot her. And the cops will have the streets covered, we’ll get the bitch, I’m telling you, sooner or later we’ll get her and this whole fuck-up will go away.”
Sy lê en sy luister na die stemme en die voetstappe wat bergop sagter raak. And the cops will have the streets covered. Dit is die woorde wat in haar kop herhaal word, wat die laaste van haar hoop dooddruk.
* * *
Bennie Griessel sê in Afrikaans: “Hy sal praat, Vusi. Jy moet hom net skrikmaak. Sê jy gaan hom toesluit. Of vat hom af selle toe. Ek moet ry.” “O.K., Bennie,” en dan loop Griessel uit en buite, op pad na sy motor, bel hy vir Dekker. “Leef sy nog, Fransman?” “Ja, sy leef. Tinkie was by haar, die hele tyd, maar toe fok sy in die badkamer in en sluit die deur en gaan sny haar pols met ’n stuk gin-bottel …” Die een wat hy vir haar uit laat drink het? Hoe het sy dit in die badkamer ingekry? “Gaan sy dit maak?” “Ek dink so, ons was vinnig by. Sy’t baie bloed verloor, maar sy behoort O.K. te wees.” “By watter hospitaal is jy?” “City Park. Het die kommissaris jou gebel?” “Hy’s hoogs die moer in.” “Dis niemand se skuld nie, Bennie, dis die fokken Mouton-doos wat ’n helse scene gegooi het. Toe hy die bloed sien, toe haak hy eenvoudig uit …” “Ons sal dit hanteer, Fransman. Ek is nou daar.” Hy klim in sy kar en hy wonder of hy iets gemis het in sy gesprek met Alexa Barnard. Was daar ’n teken?
* * *
Inspekteur Vusi Ndabeni sê: “I am your friend. You can tell me anything,” en hy sien hoe Oliver Sands se hande na sy bril toe beweeg en dit afhaal. “I know.” Sands begin die bril met sy T-hemp se soom skoonmaak, nou met sy rug deur toe. “So what really happened last night?” Vusi kyk of hy van die tekens kan sien waarvan Bennie gepraat het. “I told you,” die stem te beheersd. Vusi laat die stilte rek. Hy kyk stip na Sands, maar die brillose oë vermy syne. Hy wag tot Sands weer die bril op sy neus het. Dan leun hy vorentoe. “I don’t think you’ve told me everything.” “I did, honest to God,” en weer kom die hande na die bril toe, verskuif dit. Bennie het gesê hy moet hom skrikmaak. Hy weet nie of hy dit met oortuiging sal kan doen nie. Hy haal ’n stel boeie uit sy baadjiesak, sit dit op die tafel neer. “Police cells are not nice places.” Sands kyk na die boeie. “Please,” sê hy. “I want to help you.” “You can’t.” “Why?” “Jeez …” “Mr Sands, please stand up and put your hands behind your back.” “Oh, God,” sê Oliver Sands en staan stadig op. “Are you going to talk to me?”
Sands kyk na Vusi en sy hele lyf sidder vir ’n oomblik en hy gaan sit weer stadig. “Yes.”
09:04 – 10:09
11
Griessel ry af in Loopstraat, hawe se kant toe. Hy moes Bree gevat het, hier’s te veel verkeer, stadige motors, voetgangers wat net oor die pad loop, plaaslike kansvatters. En Gautengse toeriste. Onmiskenbaar. Dis nou hulle tweede vlaag, die eerste is die skoolvakansie-brigade, fokken selfvoldane mense wat dink hulle is die gode se gawe vir die Kaap, gewoonlik gesinne met nukkerige, selfoonbehepte tieners, ma koop die winkels leeg, pa ken nie die paaie nie, ry in almal se pad. En dan kom die tweede vlaag in Januarie, die rykgatte wat eers Krismis-wins in Sandton gemaak het en dit nou met groot verbetenheid en arrogansie hier kom spandeer. Hy sien klein groepies buitelandse toeriste, Europeërs, so vreeslik wetsgehoorsaam, kruis net by die verkeersligte, neuse in toerismeboekies, wil alles met duur kameras afneem. Hy hou stil, die ligte rooi so ver as wat hy kan sien. Hoekom kan die fokken Metro-polisie nie ’n slag van hulle gatte af opstaan en die goed sinchroniseer nie? Wat hom daaraan herinner dat hy die veldmaarskalk moet bel. Oerson. Om te hoor of hulle iets gekry het. Nee, hy moet vir Vusi help onthou. Vusi se saak. Hy trommel ongeduldig met sy vingers op die stuurwiel, besef dit is die ritme van “Soetwater” en dan kan hy nie meer sy gewete ignoreer nie. Alexa Barnard. Hy moes dit sien kom het. Sy het vir hom gesê sy het hierdie fantasie van selfmoord pleeg. “Sodat Adam halfsewe by die huis aankom en die trappe oploop en my daar kry. En dan buk hy by my en hy huil en hy sê: ‘Jy’s die enigste een vir wie ek liefgehad het.’ Maar doodwees en vir Adam sien smeek wou net nooit saamwerk nie.” Hy skud sy kop. Hoe de fok het hy dit gemis? Dis van vroeg opstaan, amper ’n uur vroeër as gewoonlik, dat hy half afwesig is vandag. En toe gaan staan en gee hy vir haar nog drank ook. Hy, die groot mentor, wat “al vergeet het wat die ander moet leer”. Hy soek na versagtende omstandighede, die manier waarop sy dit gesê, die
verhaal wat sy daarna vertel het. Dit het sy aandag afgetrek, ’n valse beeld geskep van ’n vrou wat op ’n manier in beheer was. Sy’t hom gemanipuleer. Toe hy “Soetwater” fluister en sy haar glas weer uitgehou het as tolgeld vir haar storie. Hy het net haar dors gesien; dit was die fokken probleem. Hy het twee vingers geskink en sy het die hare voor haar oë weggevee en gesê: “Ek was so ’n verskriklik onsekere ou dingetjie.” En toe lei haar geskiedenis weg van selfmoord, en fassineer hom. Hy het net die woorde gehoor, die swaar ironie in haar stem, die selfbespotting, asof haar verhaal ’n parodie was, nie regtig aan haar behoort het nie. Sy was die enigste kind van ’n bankamptenaar-pa en ’n huisvrou-ma, het sy gesê. Die gesin het elke drie of vier jaar agter haar pa se verplasings en bevorderings aan getrek – Parys, Potchefstroom, Port Elizabeth, en eindelik Bellville wat die P-ritme verbreek het. Met elke verhuising het sy halfgevormde vriendskappe agtergelaat, moes sy by ’n nuwe skool as buitestander van voor af begin, met die voorkennis dat dit weer net tydelik sal wees. Sy het al hoe meer in haar eie wêreld begin leef, meestal agter ’n toe kamerdeur. Sy het ’n pynlikpersoonlike dagboek gehou, sy het gelees en gefantaseer – en in die laaste jare van hoërskool gedroom van sangeres word, van gepakte sale en staande ovasies, van tydskrifvoorblaaie, intieme skemerpartytjies met ander beroemdes, en prinse wat haar die hof maak. Die oorsprong daarvan, en die enigste konstante in haar jeug, was haar ouma aan vaderskant, by wie sy elke Desember-vakansie in die somerhitte van Kirkwood en die Sondagsriviervallei deurgebring het. Ouma Hettie was haar lewe lank ’n musiekonderwyseres, ’n energieke, gedissiplineerde vrou met ’n lushoftuin, ’n onberispelike huis en ’n Baby Grand in die voorkamer. Dit was ’n huis van geure en klank: Marmelade en appelkooskonfyt op die stoof, beskuit of skaapboud in die oond, haar ouma se stem wat sing of gesels, en saans die soet note van die klavier wat uitvloei by die oop vensters van die klein blou huisie, oor die groot stoepe, die digte tuin, die aangrensende lemoenboorde, na die skurwe rantjies van Addo en die verkleurende horison. Alexa het eers langs haar ouma gesit en luister. Later jare, toe sy die woorde en die melodieë uit haar kop uit ken, het sy al hoe meer begin saamsing. Ouma Hettie was lief vir Schubert en die sonates van Beethoven, maar haar
vreugde was die broers Gershwin. Sy het George en Ira se verhale nostalgies tussen die liedjies vertel, “Rialto Ripples” en “Swanee” uit die klawers getower, “Lady Be Good” en “Oh, Kay!” gesing. En vir Alexa vertel dié liedjie is geïnspireer deur George se groot liefde, die komponis Kay Swift, maar dit het hom nie verhoed om ook ’n verhouding met die beeldskone aktrise Paulette Goddard te hê nie. Op ’n snikhete aand in haar vyftiende jaar het ouma Hettie skielik ophou speel en vir Alexa gesê: “Staan daar.” Sy het gedwee langs die klavier stelling ingeneem. “Nou sing jy!” En sy het, vir die eerste keer uit volle bors, “Of Thee I Sing”, en gesien hoe die ou vrou haar oë toemaak en met net ’n klein glimlag haar vervoering aandui. Toe die laaste noot wegdryf in die soel someraand het Hettie Brink na haar kleindogter gekyk en eindelik, in die taal waarin sy soveel jare onderrig gegee het, gesê: “My dear, you have perfect pitch, and you have an extraordinary voice. You are going to be a star.” En toe gaan haal sy Ella Fitzgerald se Gershwin Songbook uit haar stapel langspeelplate. Só het die droom begin. En ouma Hettie se amptelike onderrig. Haar ouers was onbeïndruk. ’n Sangloopbaan was nie wat hulle vir hul enigste kind in gedagte gehad het nie. Hulle wou hê dat sy haar as onderwyseres gaan bekwaam, ’n geleerdheid kry, ’n standvastigheid, “iets om op terug te val”. “Watse soort man gaan met ’n sangeres trou?” het Alexa haar ma se woorde ironies geëggo. In haar matriekjaar was daar skerp konflik, lang en bitter argumente in die sitkamer van die bankbestuurder se Bellville-huis. Alexa het, met verbale ammunisie deur haar ouma verskaf, teruggeval tot by haar laaste verdedigingslinie: “Dit is mý lewe. Mýne.” En ’n week voor die eindeksamen ’n oudisie gaan doen vir die Dave Burmeister-orkes. Op dié dag het die verhoogsenuwees haar byna verswelg. Dit was nie nuut nie. Sy het dit toe al by eisteddfods ervaar, en die enkele optredes by huweliksonthale en in klein klubs saam met obskure orkeste. Dit was ’n soort ritueel, ’n duiwel wat haar vier dae voor ’n optrede stelselmatig sou begin beetpak, sodat sy eindelik met ’n wild kloppende hart, swetende hande en ’n oorweldigende
sekerheid dat sy ’n verskriklike gek van haarself sou maak, die tog van kleedkamer na mikrofoon net met bomenslike wilskrag kon voltooi. Maar wanneer sy moes sing, wanneer die eerste noot uit haar be-noude keel ontsnap, het die demoon weggesmelt asof dit nooit bestaan het nie. Met haar eerste optrede vir Burmeister in ’n Johannesburgse klub was haar ouma by om die duiwel te besweer, om haar hand vas te hou en haar moed in te praat. “This is what you were born for, my dear. Go out there and knock them dead.” En sy het. Die resensie uit The Star was langs ouma Hettie se bed toe sy twee maande later in haar slaap oorlede is. “Alexandra Brink, in shimmering black, is so very easy on the eye – young, blonde and beautiful. But once she starts singing, her smoky, sensual voice, complete mastery of classic material, and innovative interpretations indicate a rare maturity and acute musical intelligence. Her range encomes Gershwin, Nat King Cole, Ma Rainey, Bessie Smith and Bobby Darin, with Dave Burmeister’s arrangements fitting her style and personality perfectly.”
* * *
Oliver Sands van Phoenix, Arizona, sê vir inspekteur Vusi Ndabeni hy het op dag 8 van die African Overland Adventure op Rachel Anderson verlief geraak. In Zanzibar. Oor ’n bord seekos, wat hy besig was om met groot konsentrasie te eet. “You are obviously enjoying that,” het Rachel gesê. Hy het opgekyk. Sy het aan die ander kant van die restauranttafel gestaan met die smaraggroen see agter haar, lang, donkerbruin hare in ’n vlegsel oor haar skouer, ’n bofpalpet op haar kop en mooi, lang bene in ’n kortbroek. Oliver was vir ’n oomblik skaam en selfbewus oor die intensiteit waarmee hy die gereg verorber het. Maar toe sy glimlag en die stoel oorkant hom met ’n “May I you, I’ll have to try some too” uittrek, kon hy sy geluk nie glo nie. Hy sê hulle moes op die eerste aand van die toer hulself aan die ander voorstel –
in ’n kring van kampstoele onder Afrika-sterre. Hy het nie eens probeer om Erin en Rachel se name te memoriseer nie, want mooi, atletiese, welsprekende meisies soos hulle het hom nog nooit raakgesien nie. Toe sy in Zanzibar oorkant hom sit en haar eie seekosbord met ywer en genoegdoening eet, het hy met ’n gevoel van paniek haar naam probeer onthou. Want sy het met hom gesels. Sy het vir hom gevra waar hy vandaan kom en wat sy toekomsplanne was. Sy het met aandag na sy antwoorde geluister, het hom vertel van haar droom om mediese dokter te word, en dat sy hier, in Afrika, eendag ’n verskil wil kom maak. Toe verloor hy sy hart op ’n naamlose vrou.
* * *
Alexa Brink se verhoogsenuwees het erger geword. Die verlies aan haar ouma het ’n invloed gehad, ’n soort fondament wat weggetuimel het, sodat sy eers leer rook het om dit te probeer beheer. Ondanks die kritici se lof en die geesdriftige reaksie van die klein, lojale gehore in Johannesburg, Durban en Kaapstad, het die duiwel van selfvertwyfeling elke aand op haar skouer kom sit. Hy het met ’n bitsige stem gefluister dat sy die een of ander tyd ontmasker sal word, dat iemand uit die gehoor haar ware kleure sal sien en voor almal sal uitroep dat sy ’n indringer, ’n bedrieër en ’n valse front was. Sy kon dit nie in die eensaamheid van haar kleedkamer hanteer nie. Een aand het sy by Dave Burmeister ingebars en in trane haar vrees blootgelê. Dit was die begin van ’n bose kringloop. Burmeister het met vaderlike geduld vir haar gesê al die grotes het met verhoogvrees gesukkel. Sy sagte, rustige stem het haar aanvanklik laat kalmeer en agter die mi-krofoon gekry. Maar elke aand het dit ’n bietjie langer geneem, meer oorreding en groter lofprysing geverg voor sy die vreesaanjaende tog oor die verhoog kon aanpak. Tot Burmeister uit radeloosheid ’n glas brandewyn en Coke voor haar neergesit en gesê het: “For God’s sake, just drink it.”
* * *
Oliver Sands het sy verknogtheid aan Rachel Anderson met ’n ysterhand bestuur. Hy het instinktief geweet hy mag nie sy brandende begeertes ten toon stel nie; hy moet sy afstand hou. Hy het nie ’n sitplek nader aan haar op die trok gesoek nie; hy het nie saans sy tent in haar omgewing gaan opslaan nie. Hy het gewag vir die magiese oomblikke wanneer sy – dikwels saam met Erin – spontaan met hom kom gesels, of hom gevra het om hulle met haar videokamera voor ’n toeriste-baken af te neem. Sy het gesien hy sit soms met ’n boek in die hand en het kom vra wat hy lees. Só het hulle oor letterkunde begin gesels. Saans het sy langs hom by die kampvuur kom sit en met haar verblindende lewenslus gesê: “So, Ollie, did we have a great day, or what?” Hy was dag en nag so verskriklik bewus van haar, hy het elke oomblik geweet waar sy is, wat sy doen, met wie sy praat. Hy het gesien sy is hartlik met almal in die groep, hy het telling gehou van die tyd wat sy aan ander afstaan en besef hy is ’n uitverkorene – hy het meer aandag en geselstyd gekry as enigiemand anders. Rachel het die twee lenige, selfversekerde hoofgidse, so ooglopend aantreklik en gewild by die ander jong vroue, oor dieselfde kam as die mans in die groep geskeer, hartlik en hoflik, maar dit was langs Ollie waar sy meer dikwels geëet het, met wie sy meer intens gesels en veel meer persoonlike geheime gedeel het. Tot by die Karibameer. Toe hulle op hul tweede dag daar op die huisbote klim, was sy skielik somber en stil, die lewensvreugde weg, die spontaneïteit opgedroog.
* * *
Alexandra Barnard het geleer om drie doppe te drink voor ’n vertoning. Dit was die dosis wat sy nodig gehad het om die duiwel stil genoeg te maak. Dit was haar perk. Vier het haar tong laat sleep, die lirieke in haar geheue laat swem en Burmeister se vaderlikheid met ’n bekommerde frons weggevee. Twee was te min.
Sy het geweet van die risiko’s. Daarom het sy nie bedags of ná ’n optrede gedrink nie. Net die drie glase – die eerste verbete afgesluk ’n uur en ’n half voor die gordyn, die ander twee stadiger en meer berekend daarna. Die basvioolspeler het haar aan jenewer voorgestel, wat, anders as brandewyn, nie so ’n stank op die asem laat nie. Sy het jenewer en tonikum probeer, maar nie daarvan gehou nie. Dry lemon was eindelik haar mengelkeuse. Só het sy vir vier jaar die demoon in toom gehou, honderde op-tredes gedoen en twee CD’s saam met Burmeister en sy orkes opgeneem. En toe ontmoet sy vir Adam Barnard. Sy het hom een aand in die Kaapse teatertjie opgemerk, die lang, forse, aantreklike man met die dik bos swart hare wat met soveel intensiteit na haar geluister het. Die volgende aand was hy weer daar. Hy het ná die vertoning aan haar kleedkamerdeur kom klop met ’n bos blomme in die hand. Hy was welsprekend en sjarmant, en sy komplimente was beheersd, sodat dit groot geloofwaardigheid gedra het. Hy het haar vir middagete genooi, ’n sake-ete, het hy dit duidelik gemaak. Sy was ryp vir wat hy voorgestel het, bewus van die limiete van haar gekose genres. Sy was in daardie stadium bekend en gewild in ’n klein dampkring, met enkele vleiende onderhoude in die vermaakbylaes van ’n paar dagblaaie, en beskeie CD-verkope. Maar sy was ook bewus van die beperkinge van haar loopbaan, haar gehoor en haar inkomste. Sy het die hoogste sport van ’n kort leer bereik en haar vooruitsigte was voorspelbaar en oninspirerend. Daarom het sy drie dae later ’n kontrak met Adam Barnard onderteken. Dit sou haar bind aan sy platemaatskappy, en aan hom, as haar bestuurder. Hy het sy professionele beloftes nagekom. Hy het by Anton Goosen, Koos du Plessis en Clarabelle van Niekerk Afrikaanse komposisies gaan uitsoek wat haar stem en haar nuwe styl sou pas. Hy het die beste musikante vir opnames gekry, vir haar ’n spesifieke, unieke klank ontwerp, haar stelselmatig aan die media bekend gestel. En hy het haar die hof gemaak met die dieselfde stille professionaliteit, en met haar getrou. Hy het haar selfs van die drie jenewers voor ’n optrede gespeen met sy absolute ondersteuning, geloof in haar talent en sy silwer, silwer woorde. Twee jaar lank was haar lewe en haar loopbaan alles waarvan sy gedroom het.
Tot ’n buitelug-fotosessie vir Sarie een middag gekanselleer is oor gure weer en sy onverwags vroeg by die huis ingestap het. En daar, in dieselfde sitkamer waar sy en Griessel gesit het, vir Adam Barnard met sy broek op sy enkels aangetref het, met Paula Phillips op haar knieë voor hom, besig om behendige fellatio met lang, dun vingers en ’n rooigeverfde mond te pleeg. Ja, Paula Phillips, die swartkop sangeres met die lang bene en groot borste wat nou nog met haar dun stem sinnelose kommersiële twak aan middelklasgehore opdis. Dit was die dag dat Alexa Barnard ernstig begin drink het.
* * *
Al was Rachel Anderson skielik met almal anders, het Oliver Sands geweet dit was iets wat hy gedoen of gesê het. Hy het elke interaksie met haar probeer herroep, elke woord wat hy vir haar gesê het, maar kon nie die oorsprong van haar afkeer vind nie. Het hy iets vir iemand anders gesê, of aan iemand iets gedoen wat haar só kon ontstel? Hy het nagte wakker gelê, hy het op die ritte na die Victoria-waterval, die Chobe-wildtuin, die Okavango, Etosha en eindelik Kaap toe by die venster uitgestaar met die vae hoop dat hy insig sal kry, dat hy sal weet hoe om dit reg te maak. Tot die vorige aand, in die Van Hunks in Kaapstad, toe hy dit nie meer kon hou nie. Wat hy moes gesê het, was: “Ek kan sien iets pla jou, Rachel. Wil jy daaroor praat?” Maar hy het een bier te veel ingehad vir dié moed. En toe gaan sit hy langs haar en hy sê, soos ’n absolute, volkome swaap: “I don’t know why you suddenly hate me, but I love you, Rachel,” en hy sit daar met hongerhond-oë en staar na haar met die sinnelose verwagting dat sy sal sê: “I love you too, Ollie, I’ve loved you since that magical day in Zanzibar.” Maar sy het nie. Hy het vir ’n oomblik gedink sy het hom nie bo die harde musiek gehoor nie, want sy het net voor haar gesit en uitstaar by die tafeltjie. En toe staan sy op, draai na hom toe en sy soen hom op die voorkop.
“Dear Ollie,” het sy gesê en weggeloop van hom af, tussen die dansende menigte in. “That’s why I came back here,” sê Sands vir Vusi. “I don’t follow.” “Because I knew the dorm would be empty. Because I wanted to cry without anybody seeing me,” sê Oliver Sands. Hy haal nie sy bril af nie. Die trane loop onder die raam deur, teen sy ronde, rooi wange af.
12
Rachel Anderson lê op haar maag agter die opgestapelde dennehoutstompe, kragteloos en leeg. Daar is iets ongemakliks wat teen haar buik druk, maar sy skuif nie. Sy kan nie meer die selfbejammering onderdruk nie; dit oorrompel haar, verlam haar. Sy kan nie huil nie; dis asof haar traanbuise opgedroog het. Haar asemhaling is vinnig en vlak, haar mond oop; haar oë staar na die tekstuur van die gesaagde hout, maar sien niks nie. Haar gedagtes staan stil, ingehok deur ’n totale gebrek aan moontlikhede, die deure na alle ontsnaproetes toegeklap, behalwe hierdie een opsie, om in dié skaduwee te bly lê, ’n hygende, verlamde vis op droë grond. Sy hoor nie meer die stemme nie. Hulle het weggestap, bergop. Miskien sal hulle haar spore sien en dit volg, hiernatoe, en die een of ander tyd na die amper voltooide motorhuis staar en snap dat dit skuiling bied en dan agter die dennehout intree en haar hare in ’n ystergreep klem en haar keel oopkloof en sy dink sy sal nie bloei nie, want daar is niks oor nie. Niks. Nie eens meer die vrees vir die bonkige lem nie; dit laat nie meer die adrenalien in haar ingewande los nie. Om by die huis te wees. Dit is ’n vae verlange wat haar stadigaan oorrompel – ’n skimbeeld wat uit die mis verskyn, die veilige hawe, haar pa se stem, ver en vaag.“Don’t you worry, honey, just don’t you worry.” Om deur hom vasgehou te word, om op sy skoot op te krul, haar kop onder sy ken in te druk, haar oë toe te maak. Die veiligste plek in die wêreld. Haar asemhaling wat langsaam rustiger word, die beeld in haar kop helderder. ’n Uitweg wat vorm, instinktief en sonder rasionaal, om hier op te staan en haar pa te gaan bel.
Hy sal haar red.
* * *
As daar snags ’n moord of ’n gewapende roof in sy gebied is, bel die SAPS-lede van Caledonplein hul stasiebevelvoerder by die huis. Maar die mindere onheile van die vorige nag moet wag tot hy agter sy lessenaar kan inskuif en sy pen laat afloop teen die aantekeninge in die aanklagkantoor se . Die SB is ’n swart superintendent met 25 jaar diens. Hy weet daar is net een manier om dié taak te verrig – stadig en objektief. Want anders kan die aard en omvang van dié dokument jou oorweldig. Daarom skandeer hy die lys met professionele afstand, verby die huismoles, openbare dronkenskap, die diefstal van selfone en motors, dwelmverkope, rusverstoring, huisbrake, aanranding, ontbloting en vals alarms. Sy pen gly eers verby die Leeukop-insident, op bladsy sewe van die , en kom dan terug. Hy lees dit meer noukeurig. Die onwillige vrou wat die jong meisie teen die berg gesien het. Dan trek hy die bulletin nader wat links van hom lê, op die hoek van die gepokmerkte houtblad. ’n Konstabel het dit net minute gelede ingebring; hy het dit toe vlugtig gelees. Nou gee hy meer aandag daaraan. Hy sien die verband. Heel onder aan die bulletin is inspekteur Vusumuzi Ndabeni se naam en telefoonnommer. Die stasiebevelvoerder trek sy telefoon nader en bel.
* * *
Vusi stap met Langstraat af, hawe se kant toe, op pad na die Van Hunks-klub, toe sy selfoon lui. Hy antwoord in die stap. “Inspector Ndabeni.”
“Vusi, dis Goodwill,” sê die SB van Caledonplein in Xhosa. “Ek dink ek het iets vir jou.”
* * *
Bennie Griessel staan saam met sy kollegas in een van die ondersoekkamers van die City Park-hospitaal se ongevalleafdeling, met ’n sterk gevoel van déjà-vu. Hulle is ’n intieme groepie agter die toe deur, want die ruimte is min. Terwyl Fransman Dekker met ’n frons van groot erns praat, kyk Griessel na die mense om hom: John Afrika, streekkommissaris: Speurdienste en Misdaadintelligensie, in volle, indrukwekkende uniform, sy skouerepoulette van hoek tot kant vol met rangtekens. Afrika is korter as Dekker, maar hy het ’n teenwoordigheid, ’n energie wat hom fors laat voorkom, die dominante krag van die vertrek. Langs Afrika is die tenger Tinkie Kellerman, haar fyn gelaatstrekke oorheers deur die groot oë wat aandui dat sy oorweldig is deur dié vergadering. Dan die breedgeskouerde Dekker met sy borselkop en hoekige gesig, sy erns, sy fokus, sy stem nou diep en intens terwyl hy praat. Hulle sê hy maak vroue se knieë lam, maar Griessel kan dit nie sien nie. Hulle sê Dekker het ’n beeldskone bruin vrou met ’n senior pos by Sanlam, dié dat hy kan bekostig om in ’n duur huis iewers teen die Tygerberg te bly. En hy knyp soms die kat in die donker. En Cloete, hier langs hom, die skakeloffisier met die nikotienvlekke op sy vingers en die permanente skadu’s onder die oë, Cloete met sy eindelose geduld en kalmte, die man in die middel, tussen die duiwel van die media en die diep blou see van die SAPS. Hoeveel keer was hy al hier, wonder Griessel, in dié soort noodvergadering, die een wat moet seker maak almal se gatte is gedek, sodat verduidelikings hoër op teen die SAPS-voedselketting uit een mond sal kom. Maar nou is die verskil dat hy ook, soos Cloete, vasgevang is in ’n niemandsland, syne geskep deur ’n mentorskap wat hy nie dink gaan werk nie. Dekker handel sy verduideliking af en Griessel trek sy asem onopsigtelik in om gereed te maak vir die voorspelbare afsluiting.
“Is julle seker?” vra Afrika en kyk na Griessel. “Doodseker, kommissaris,” sê hy. Almal behalwe Cloete knik hul koppe. “Nou waaroor gaan die doos so te kere?” en dan kyk die kommissaris vlugtig na Tinkie Kellerman en sê: “Ekskuus, maar dit is wat hy is.” Tinkie knik net. Sy het al alles gehoor. “Hy was van die begin af ’n probleem,” sê Fransman Dekker. “Hy’t die konstabel by die hekkie al moeilikheid gegee, wou net inkom. En dit was ’n crime scene, kommissaris, ek doen dinge volgens die boek.” “Fair enough,” sê John Afrika en laat sy kop sak, denkend, met sy hand oor sy mond. Dan kyk hy op. “Die media …” en kyk vraend na Cloete. “Dis ’n groot storie,” sê Cloete, soos altyd op die verdediging, asof hy aandadig is aan die media se bloeddorstigheid. “Barnard is ’n celebrity, soort van …” “Dis die probleem,” sê John Afrika, en dink weer. As hy opkyk en op Dekker fokus met ’n apologetiese trek van die mond, weet Griessel wat gaan kom. “Fransman, jy gaan nie hiervan hou nie …” “Kommissaris, miskien …” sê Griessel, want hy was al die een van wie beheer weggeneem is en hy weet hoe dit voel. Afrika hou sy hand in die lug. “Hulle gaan ons verskeur, Bennie. As Mouton sê Alexa Barnard is ons skuld. Ek meen, ons was dáár, in haar kamer … Jy weet hoe dit is met die koerante. En dan skryf hulle môre dis omdat ons onervare mense op die saak gesit het …” Dekker snap ook. “Nee, kommissaris …” sê hy. “Fransman, moet nou nie lat ons vassit nie; dit was op jóú watch gewees,” sê Afrika streng. Dan, sagter: “I’m not saying it’s your fault; ek wil jou nou protect.”
“Protect?” “Jy moet verstaan. Dis moeilike tye …” Hulle weet hy verwys na die ondersoekmislukkings van die afgelope tyd, waarop die koerante en die politici soos roofdiere toegesak het. Dekker probeer een laaste keer. “Ma’ kommissaris, as ek dié ding vandag crack, skryf hulle môre …” “Djy wiet dissie sóé maklikie.” Griessel wonder hoekom bruin mense net met mekaar Vlakte-Afrikaans praat. Dit laat hom altyd uitgesluit voel. Dekker wil nog iets sê, sy mond gaan oop, maar dan lig John Afrika ’n waarskuwende vinger en die mond gaan toe, die kake werk, die oë kwaad. “Bennie, jy vat die ding oor,” sê die kommissaris. “As of right now. En Fransman, jy werk styf teen Bennie se sy. Lat hy die pressure vat, lat hy die Moutons van die lewe handle, julle is ’n team, as julle dié ding crack …” Griessel se selfoon lui. “… dan deel julle die honours.” Bennie haal die foon uit sy sak en kyk na die skerm. “Dis Vusi,” sê hy betekenisvol. “Jissis,” sê Afrika en skud sy kop. “It never rains …” Griessel antwoord met ’n “Vusi?” “Is die commissioner nog daar by jou, Bennie?” “Hy’s hier.” “Hou hom daar, asseblief tog, hou hom net daar.”
* * *
Tafelbergweg is ’n teerpaadjie wat die berg se kontoer aanvanklik op 360 meter bo seevlak volg. Dit loop verby die onderste kabelkarstasie, waar die toeriste nou in lang toue staan, maar net anderkant Platteklipstroom se klofie hou ’n betonafsperring motors uit, sodat net voetgangers en fietsryers verder kan gaan. Van hier af styg en daal dit oor die kontoere tussen 380 en 460 meter vir meer as vier kilometer, om Duiwelspiek se hang, voor dit eindelik as ’n verslegtende grondpad by die Koningsbattery-voetslaanpad aansluit. Die uitkykpunt met die beste uitsig oor die stadskom is honderd meter onder Mount Prospect teen Duiwelspiek se noordwestelike flank, net voor die pad skerp oos draai. Die jong man sit net bokant die pad, op ’n rots, in die skaduwee van ’n nou blomlose proteabos. Hy is in sy laat twintigs, wit, lenig en bruingebrand. Hy het ’n breërandhoed op sy kop, ’n verbleikte blou hemp met ’n groen kraag aan, ’n lang kakiekortbroek en ou, gehawende Rocky-sandale met dik vastrapsole. Hy het ’n verkyker voor sy oë en hy skandeer die terrein stadig van links na regs, wes na oos. Voor hom is die Kaap asembenemend – van die kabelkar wat in klaarblyklike gewigloosheid oor die skurwe kranse van Tafelberg na bo gly, verby die verleidelike rondings van Leeukop en Seinheuwel, oor die blouwaterbaai, ’n vonkelende juweel wat tot by die horison strek, tot hier voor hom, waar die stad met soveel gemak in die armholte van die berg lê, soos ’n rustige kind by ’n vertroueling. Hy is nie daarvan bewus nie, want sy fokus is uitsluitlik op die soom van die stad. Langs hom op die plat rots is ’n kaartboek van Kaapstad. Dit is oop by Oranjezicht, dié deel hier onder hom. Die bergbries blaai liggies daardeur, sodat hy dit nou en dan ingedagte met die palm van sy hand moet platvee.
* * *
Rachel Anderson staan stadig op, soos ’n slaapwandelaar. Sy loop om die lang
stapel dennehout en kyk dan berg se kant toe. Sy sien niemand nie. Sy stap uit onder die skaduwee van die motorhuis en draai regs, in die rigting van die stad, oor die sementblad en die swartklip-plaveisel, dan oor die teer van Boschlaan tot waar dit, net tien meter verder, in Rugbyweg inloop. Sy is leeg, sy kan nie meer vlug nie, sy sal haar pa gaan bel, net rustig stap en haar pa gaan bel.
* * *
Die jong man met die verkyker sien haar op daardie oomblik, wanneer sy lense oor haar gly, ’n klein, eensame figuur; dit is die denim-kortbroek, die poeierblou T-hemp en die klein rugsak waaraan hy haar herken. “Jesus Christ,” sê hy hardop. Hy ruk die verkyker terug, fokus in op haar, maak doodseker, haal ’n selfoon met groot haas uit sy hempsak en soek ’n nommer. Hy bel en bring dan die verkyker met sy ander hand terug na sy oë. “Yeah?” hoor hy oor die selfoon. “I see her. She just fuckin’ walked out of nowhere.” “Where is she?” “Right there, in the road, she’s turning right …” “Which road, Barry?” “For fuck’s sake,” sê Barry, sit die verkyker op die rots neer en trek die kaartboek nader. Hy sien die wind het dit weer laat omblaai. Met groot haas slaan hy die bladsy terug en sy vinger begin soek na die regte plek. “It’s right there, first road below …” “Barry, what fuckin’ street?” “I’m working on it,” sê Barry, sy stem hees.
“Just relax. Give us a street name.” “O.K., O.K… . It’s Rugby Road … Hang on …” Hy gryp weer die verkyker. “Rugby Road runs all along the mountain, you fucking idiot.” “I know, but she’s turning left into …” Hy sit die verkyker weer neer, soek naarstig op die kaart. “Braemar. That’s it …” Barry ruk weer die verkyker op. “Braemar …” Hy soek haar in die lense, sien haar vir ’n oomblik. Sy stap ongeërg, rustig. En dan begin sy verdwyn, asof die woonbuurt haar van haar voete af insluk. “Shit, she’s … she’s gone, she just fucking disappeared.” “Not possible.” “I think she went down an embankment or something.” “You’ll have to do better than that.” Barry soek weer bewend op die kaart.“Stairs. She’s taking the stairway to Strathcona Road.” Hy mik weer met die verkyker. “Ja. That’s it. That’s exactly where she is.”
* * *
Griessel staan by Dekker en Cloete buite op die sypaadjie. Hulle kyk deur die glasdeure hoe John Afrika vir Willie Mouton en sy somber prokureur in die ongevalle-lokaal paai. “Ek is jammer, Fransman,” sê Griessel. Dekker sê niks nie; hy staar net na die drie mans daar binne. “Dit gebeur,” sê Cloete filosofies, trek diep aan ’n sigaret en kyk na sy selfoon, wat die een knaende media-SMS ná die ander ontvang. Hy sug. “En dis nie Bennie se skuld nie.” “Ek weet,” sê Dekker. “Maar ons mors tyd. Jos Geyser kan al in fokken
Timboektoe wees.” “Dié Jos Geyser?” vra Cloete. “Wie?” vra Griessel. “Die gospel-ou. Barnard het gisteroggend sy vrou by sy kantoor gepomp en toe confess sy die hele ding.” “Barnard se vrou?” vra Griessel. “Nee. Geyser se vrou.” “Melinda?” vra Cloete dringend. “Dis reg.” “Nee!” sê Cloete, geskok. “Wag nou …” sê Griessel. “Ek het al hulle CD’s,” sê Cloete. “Ek kan dit nie fokken glo nie. Is dit wat Mouton nou loop en vertel?” “Jy’s ’n gospel fan?” vra Dekker. Cloete knik net vlugtig en skiet sy sigaretstompie met ’n boog straataf. “Hy lieg, ek sê jou. Melinda is hierdie mooi ou dingetjie. En buitendien, sy en Jos is wedergebore; sy sal nooit so iets doen nie.” “Wedergebore of te nie, dis wat Mouton sê.” “Wag, Fransman, verduidelik nou mooi vir my,” sê Griessel. “Barnard het glo gisteroggend vir Melinda Geyser in sy kantoor gepomp. En toe kom haar man, Jos, gistermiddag en hy sê hy weet alles en hy gaan vir Barnard doodbliksem, maar Barnard was nie daar nie.” “Kan nie wees nie,” sê Cloete, maar as poliesman weet hy enigiets kan en hy oorweeg die moontlikheid dat dit waar kan wees en sy gesig val. “Jissie. Die media …”
“Ja,” sê Griessel. “Bennie!” Hulle draai al drie om as hulle Vusi Ndabeni se stem hoor. Die swart speurder kom op die sypaadjie aangedraf en kom staan uitasem by hulle. “Waar’s die commissioner?” In gelid wys al drie met beskuldigende vingers deur die glasdeure na waar ’n geneesheer nou by die Mouton-konferensie aangesluit het. “Die ander meisie – sy lewe nog, Bennie. But they are hunting her down, somewhere in this city. Die commissioner sal nog mense moet organise.”
* * *
Sy loop af in Marmionstraat, in die rigting van die stad, sonder haas. Daar is ’n afwesigheid aan haar, ’n aanvaarding van haar lot. Voor haar sien sy ’n motor wat agteruit by ’n huis se oprit uitgery kom, ’n klein swart Peugeot. Sy sien die bestuurder is ’n vrou. Sy versnel nie haar pas nie, loop net só, argeloos nader. Die vrou ry tot op die soom van die straat en hou stil. Sy kyk links vir verkeer, dan regs. Sy sien vir Rachel en maak ’n oomblik lank oogkontak, kyk dan weg. “Hi,” sê Rachel kalm, maar die vrou hoor haar nie. Sy tree vorentoe en klop met die kneukel van haar middelvinger saggies teen die ruit. Die vrou se kop draai, kyk ergerlik. Haar mond het ’n eienaardige vorm; die hoeke buig sterk na onder. Sy draai die ruit ’n paar sentimeter af. “May I use your telephone, please,” sê Rachel, emosieloos, asof sy reeds die antwoord ken. Die vrou kyk haar op en af, sien die vuil klere, die stukkende ken, hande en knieë. “There is a public telephone at Carlucci’s. On Montrose.” “I’m in real trouble.” “It’s just around the corner,” en die vrou kyk weer of daar verkeer in Marmion is. “Just turn right at the next street, and walk two blocks.” Sy draai die venster
op en ry agteruit. As sy links draai om in die straat af te ry, kyk sy nog een keer vir Rachel, met agterdog en afkeer.
* * *
Barry bestudeer die kaart op die enjinkap en sê in die selfoon: “Look, she could have gone left into Chesterfield, or she could have taken Marmion, but I can’t see her. The angle’s not good from here.” “Which one goes down to the city?” Die stem is uitasem. “Marmion.” “Then keep your focus on Marmion. We’re two minutes from the Landy, but you will have to tell us where she is. It’s going to take ten minutes to get the cops there. And by then she could be anywhere …” Barry vat die verkyker en hou dit weer voor sy oë. “Hang on …” Hy volg weer Strathcona, tot waar dit boomryk in Marmion inloop. Die verkyker stroop die beeld van perspektief, daar is te veel dubbelverdiepings, dis te begroei, hy kan net hier en daar die westelike sypaadjie of stukkies van die teerpad sien. Hy volg die trajek noord, na die stad toe, kyk weer vinnig af na die kaart. Marmion loop dood in … Montrose. En daar behoort sy links te draai, as sy wil stad toe. Terug by die verkyker. Hy kry Montrose, breed en meer sigbaar van hier af. Hy volg dit wes. Niks. Sou sy regs gedraai het? Oos? “Barry?” “Yeah?” “We’re at the Landy. We’re going to Marmion.” “O.K.,” sê hy, steeds met die verkyker voor sy oë.
Dan sien hy haar, ver en klein in die lense, maar onmiskenbaar. Sy steek ’n kruising oor. “I have her. She’s in Montrose …” Hy kyk af na die kaart. “She’s just crossed Forest, heading east.” “O.K. We’re in Glencoe. Now just don’t lose her.”
13
John Afrika kom alleen by Ongevalle se glasdeure uitgestap, Willie Mouton en die somber prokureur, Regardt Groenewald, is klaarblyklik die hospitaal in. “Goeie nuus, kêrels,” sê John Afrika as hy in die kring kom staan. “Alexa Barnard is buite gevaar. Die skade is nie so erg nie, sy’t net bloed verloor, hulle hou haar … o, Vusi, môre, wat maak jy hier?” “Ek is jammer, kommissaris, ek weet jy is besig, maar ek het gedink ek kom vra hulp …” “Moenie apologise nie, Vusi. Wat kan ek doen?” “Die Amerikaanse meisie by die kerk … Hulle was twee; ons weet dit nou …” Vusi Ndabeni haal sy notaboek uit sy netjiese baadjie se sak, trek homself regop en slaan oor na Engels. “The victim is Miss Erin Russel. Her friend is Miss Rachel Anderson. They came in with a tour group yesterday. Miss Anderson was seen on Signal Hill at approximately six o’clock this morning, pursued by assailants. Sir, she’s an eyewitness, and she’s in great danger. We need to find her.” “Damn,” sê John Afrika, maar die Engelse kragwoord werk nie vir hom nie. “Pursued by assailants? Watse assailants?” “Apparently five or six young men, some white, some black.” “En wie is die getuie?” “A lady by the name of … Sybil Gravett. She was walking her dog along Signal Hill when Miss Anderson came up to her, and asked her for help. She then ran in the direction of Camps Bay after she asked Mrs Gravett to call the police. A few minutes later, the young men came running by.” Die kommissaris kyk na sy horlosie. “Fokkit, Vusi, dis meer as drie uur gelede
…” “Ek weet. That’s why I need more people, sir.” “Bliksem.” Afrika vryf met sy hand oor sy kakebeen. “I don’t have more people. We’ll have to get the stations involved.” “I’ve already asked the stations, sir. But Caledon Square has to police a union march to Parliament, and Camps Bay has only two vehicles in operation, the SC says they lost one patrol van to theft on New Year’s Eve, and the other one was crashed …” “Nee, o bliksem,” sê Afrika voor Vusi kan klaarmaak. “I’ve put out another bulletin, sir, but I thought if we could get the chopper, and put some pressure on the SC’s …” Afrika haal sy selfoon uit. “Lat ek kyk wat ek kan doen … Wie de fok jaag haar?” “Ek weet nie, kommissaris. But they were in a nightclub last night. The Van Hunks …” “Jissis,” sê John Afrika en bel ’n nommer. “Wanneer gaan ons daardie neste skoonmaak?”
* * *
Rachel Anderson loop by die voordeur van die Carlucci’s Quality Food Store in, reguit na die toonbank, waar ’n jong man in ’n wit voorskoot besig is om kleingeld uit klein plastieksakkies te haal. “Is there a telephone I can use?” Haar stem is sonder infleksie. “Just there, next to the ATM,” sê hy en dan kyk hy op. Hy sien die vlekke op haar klere, die droë bloed aan haar gesig en knieë. “Hi … Are you O.K.?”
“No, I’m not. I need to make an urgent call, please.” “It’s not a card phone. Would you like some change?” Rachel haal die sak van haar rug af. “I’ve got some.” Sy loop in die rigting wat hy beduie het. Hy sien haar skoonheid, ondanks haar voorkoms. “Something I can help you with?” Sy antwoord hom nie. Hy kyk haar bekommerd agterna.
* * *
“Jesus Christ,” sê Barry oor die selfoon. “She’s just gone into a fucking restaurant or something.” “Shit. Which one?” “It’s on the corner of Montrose and … I think it’s Upper Orange … Yes, that’s it.” “We’ll be there in two minutes. Just keep looking …” “I’m not taking my eyes off the place.”
* * *
Die telefoon maak vir Bill Anderson wakker in sy huis in Wes-Lafayette, Indiana. Met sy eerste vat stamp hy die gehoorstuk af, sodat hy regop moet kom, sy voete uit die bed swaai en dit optel. “What is it?” vra sy vrou verward langs hom.
“Daddy?” hoor hy as hy die gehoorstuk optel. Hy bring dit na sy oor toe. “Baby?” “Daddy!” sê sy dogter, Rachel, dertienduisend kilometer ver, en dan begin sy huil. Bill Anderson se buik trek saam; hy is skielik helder wakker. “Honey, what’s wrong?” “Erin is dead, Daddy,” “Oh, my God, baby, what happened?” “Daddy, you have to help me. They want to kill me too.”
* * *
Links van haar is ’n groot venster wat uitkyk op Montrosestraat, voor haar is die deli-toonbank, waar drie bruin mense betekenisvol na mekaar kyk toe hulle haar woorde hoor. “Honey, are you sure?” vra haar pa, sy stem so verskriklik naby. “They cut her throat last night, Daddy. I saw it …” en haar stem snik. “Oh, my God,” sê Bill Anderson. “Where are you?” “I don’t have much time, Daddy. I’m in Cape Town … The police, I can’t even go to the police …” Sy hoor die geskreeu van bande op die teer buite. Sy kyk op en uit. ’n Nuwe, wit Land Rover Defender hou daar buite stil, die insittendes bekend. “They’re here, Daddy, please help me …” “Who’s there? Who killed Erin?” vra haar pa dringend, maar sy het gesien hoe die twee uit die Land Rover spring en na die winkel se voordeur hardloop. Sy
gooi die gehoorstuk neer en vlug deur die winkel, verby die verstomde vroue agter die deli-toonbank, na ’n wit houtdeur heel agter. Sy stamp dit met geweld oop. Net voor sy uithardloop, hoor sy die man in die voorskoot wat skerp skree: “Hey!” Sy is in ’n lang, nou gang tussen die gebou en ’n hoë wit muur. Op die muur is ’n lang ry glasstukke. Die enigste uitgang is na regs, aan die einde van die gang – nog ’n houtdeur. Sy hardloop, die verskriklike vrees terug. As die deur gesluit is … Die sole van haar sportskoene klap hard in die eng ruimte. Sy ruk die deur. Dit wil nie oop nie. Agter haar hoor sy die deli-deur oopgaan. Sy kyk om. Hulle sien haar, die twee. Sy fokus op die deur voor haar. Daar is ’n draaislot. Sy maak dit oop. ’n Angstige geluid ontplof oor haar lippe. Sy ruk die deur oop. Hulle is te naby. Sy gaan uit, klap dit agter haar toe, hoor hulle voeteval, net meters van haar af. Sy sien die straat voor haar, besef die deur het ’n grendel aan hierdie kant, draai om, haar vingers werk met ylingse haas, dit wil nie skuif nie, hoor hulle by die draaislot aan die ander kant. Sy stamp die grendel met die palm van haar hand; pyn skiet in haar arm op. Die grendel skuif, die deur gesluit. Hulle ruk daaraan van die ander kant af. “Bitch!” roep een van hulle. Sy spaander teen vier sementtrappies af. Sy is in die straat, hou aan met hardloop, links, teen die lang, dalende helling van Bo-Oranjestraat af, haar oë wat soek na uitkoms, want hulle is te naby, al gaan hulle weer voor by die winkel uit; hulle is nou so naby soos laasnag, net voor hulle vir Erin gevang het.
* * *
Bill Anderson storm by die trappe van sy huis af na sy studeerkamer, met Jess, sy vrou, kort op sy hakke. “They killed Erin?” vra sy. Haar stem dra swaar aan haar sorg en vrees. “Honey, we have to stay calm.”
“I am calm, but you have to tell me what’s going on.” Anderson gaan staan onder, waar die trap in die voorportaal inloop, en draai om. Hy sit sy hande op sy vrou se skouers. “I don’t know what’s going on,” sê hy kalm en stadig. “Rachel says Erin was killed. She says she is still in Cape Town … and that she’s in danger …” “Oh, my God …” “If we want to help her at all, we will have to stay calm.” “But what can we do?”
* * *
Die jong man in die voorskoot sien hoe die twee wat die meisie gejaag het, teruggehardloop kom deur Carlucci’s Quality Food Store. Hy skree weer “Hey!” en gaan staan tussen hulle en die voordeur. “Stop!” Die voorste van die twee, wit, strak, gefokus, kyk skaars na hom as hy al twee sy hande oplig en die jong man voor die bors stamp, sodat hy agteruit steier en met sy rug teen die toonbank by die deur val. Dan is hulle verby hom, uit, die straat in. Hy skarrel orent, sien hoe hulle vir ’n oomblik op die sypaadjie huiwer. “I’m calling the police,” skree hy en vryf met sy regterhand teen sy rug. Hulle reageer nie, hulle kyk af in Bo-Oranjestraat, sê iets vir mekaar, hardloop na die Land Rover en spring in. Die jong man draai na die toonbank, kry die telefoon beet en bel 10111. Hy sien hoe die Land Rover met skreeuende bande om die hoek van Belmont en BoOranje jaag, sodat ’n ou, groen Volkswagen Golf skerp moet rem. Dit val hom by dat hy die registrasienommer moet kry. Hy klap die telefoon neer, hardloop uit, ’n entjie in die straat af. Hy sien dit is ’n CA-nommer, hy dink dit is 412 en nog vier syfers, maar dan is die voertuig te ver. Hy draai om en haas hom terug
na die toonbank toe.
* * *
Teen Duiwelspiek se hang lui Barry se selfoon en hy gryp dit. “Yes!” “Where did she go, Barry?” “She went down Upper Orange. What happened?” “Where is she now, for fuck’s sake?” “I don’t know, I thought you could see her.” “Aren’t you fucking watching?” “Of course I’m fucking watching, but I can’t see the whole goddamn street from here …” “Jesus! She went down Upper Orange?” “I saw her, for about … sixty metres, then she went behind some trees …” “Fuck! Keep looking. Don’t take your fucking eyes off this street.”
* * *
Bill Anderson sit in sy studeerkamer, sy elmboë op die ou lessenaar, die telefoon teen sy oor. Dit lui in die huis van sy prokureur. Agter hom staan sy vrou, Jess. Sy huil saggies, haar arms beskermend om haarself. “Is he answering?” vra sy.
“It’s two o’clock in the morning. Even lawyers are asleep.” ’n Bekende stem antwoord aan die ander kant, duidelik verward en deur die slaap. “Connelly.” “Mike, this is Tom. I am truly sorry to call you at this hour, but it is about Rachel. And Erin.” “Then you don’t have to be sorry at all.”
* * *
Daar is vier uniformlede van die SAPS aan diens by die aanklagkantoor van die Caledonplein-polisiestasie – ’n kaptein, ’n sersant en twee konstabels. Die konstabel wat die oproep van Carlucci’s Quality Food Store neem, is onbewus van Vusi Ndabeni se bulletin en die Leeukop-insident. Hy maak aantekeninge terwyl die jong man die voorval in sy winkel beskryf en dan stap hy oor na die sersant in die radiokamer en hulle kontak die stasie se patrollievoertuie. Die sersant weet hulle is almal in die omgewing van die parlement, waar ’n optog vanoggend plaasvind. Hy gee kursoriese besonderhede van die voorval en vra of een van die voertuie sal gaan ondersoek instel. Hy kry ’n koor van vrywilligers, want die optog is klein, vreedsaam en vervelig. Hy kies die voertuig naaste aan Bo-Oranjestraat. Die konstabel loop terug na die lang aanklagkantoor-toonbank. Hy maak seker die istrasie oor die oproep is volledig.
14
Hulle sit buite by ’n koffiewinkel op die hoek van Kortmark en Bree, vyf polisiemanne om ’n viermantafel, Cloete so half eenkant, buite die skadukol van die rooi sambreel, gedempte stem, selfoon teen die oor, sigaret tussen die vingers, pleitend vir geduld by die een of ander vasberade joernalis. Die ander het almal elmboë op die tafel, koppe bymekaar. John Afrika se diep frons wys hy dra op die oomblik swaar aan sy verantwoordelikhede. “Dis jou show, Bennie,” sê hy. Griessel het geweet dit gaan kom, want dit kom altyd. Die topstruktuur wil alles doen behalwe die besluite neem. “Kommissaris, die belangrike ding is dat ons die beskikbare mannekrag so doeltreffend moontlik aanwend.” Hy hoor sy eie woorde. Hoekom is hy so fokken hoogdrawend as hy met ’n grootkop praat? Afrika knik plegtig. “Ons groot probleem is, ons weet nie waar die Barnard-moord plaasgevind het nie. Ons het forensies nodig van ’n toneel. Daar was uitskietwonde, daar moet bloed wees, koeëlreste … En dan het ons nodig om Greyling by die toneel te plaas …” “Geyser,” sê Fransman Dekker, nog steeds dikbek. Hy moes dit onthou het, dink Griessel, wat is dit met sy kop vanoggend? “Geyser,” brand hy die van in sy geheue in. “Ek gaan hulle inbring stasie toe, die man en die vrou. Ons moet afsonderlik met hulle praat. Fransman kan solank by AfriSound …” Hy kyk vlugtig vir Dekker, nie doodseker of dit die regte naam van die maatskappy is nie. Dekker reageer nie. “… die platemaatskappy, ons moet weet hoe Barnard se dag verloop het. Waar was hy gisteraand, by wie? Hoe laat? Hoekom? Ons moet dié ding van die grond af bou.”
“Amen,” sê Afrika. “Ek soek ’n rock solid case.” “Ons het ook ’n formele verklaring van Willie Mouton nodig. Fransman?” “Ek kan dit handle.” “Was daar ander mense wat ook vir Geyser gesien en gehoor het gister? Wie het almal vir Geyser se vrou gesien toe sy by Barnard se kantoor was?” “Die Groot Gepomp,” sê Cloete met afkeer, sy selfoongesprek verby. Dan lui sy foon weer. Hy sug en draai weg. “Wat Vusi se saak betref – hy’t hulp nodig, kommissaris, iemand wat met die stasies kan koördineer, iemand met gesag, iemand wat nog mense kan inbring, van die suidelike voorstede, van Milnerton en Table View …” “Table View?” sê Dekker. “Hulle kan nie hulle eie gatte met ’n fokken handspieël kry nie.” “Die chopper kan oor ’n uur begin help. Maar jy sal moet koördineer, Bennie, wie anders is daar?” sê John Afrika, ongemaklik. Griessel se stem raak sag en ernstig. “Kommissaris, dis iemand se kind wat daar iewers is. Hulle jag haar al van donkernag af …” Afrika vermy die intensiteit van Griessel se blik. Hy weet waar dit vandaan kom, hy ken die storie van Bennie se dogter, ses maande gelede, toe sy ontvoer is. “Dit is so,” sê hy. “Ons het voete op die grond nodig. Voertuie, patrollies. Vusi, die foto wat die Amerikaner met die bril geneem het – van die meisie wat weg is – ons moet afdrukke kry. Elke poliesman in die Skiereiland … die Metro-mense …” en Griessel wonder wat van die veldmaarskalk en sy soektog van die strate geword het. “Die Metro-mense?” sê Dekker. “Fokken glorified traffic cops …” John Afrika kyk streng na Dekker. Dekker kyk straat se kant toe.
“Dit maak nie saak nie,” sê Griessel. “Ons het al die oë nodig wat ons kan kry. En ek het gedink ons moet vir Mat Joubert inbring, kommissaris, om te koördineer. Hy’s nog redelik los by die PT …” “Nee,” sê Afrika beslis. En dan lig sy wenkbroue. “Jy weet nog nie van Joubert nie?” “Wat van …” Griessel se selfoon lui. Hy kyk na die instrument. Die nommer is onbekend. “Ekskuus,” sê hy en antwoord. “Bennie Griessel.” “Dis Willie Mouton,” die stem selfbelangrik. “Meneer Mouton,” sê Griessel doelbewus, sodat die ander kan hoor. John Afrika knik. “Ek het jou nommer vir hom gegee,” sê hy gedemp. Mouton sê: “Ek het vir Jos Geyser gebel en gesê hy moet kantoor toe kom; ek wil vir hom iets belangriks sê. Hy gaan oor tien minute hier wees, as julle hom wil arresteer.” “Meneer Mouton, ons sou verkies het om hom self in te bring.” Griessel doen sy bes om sy frustrasie te onderdruk. “Eers kla julle ek werk nie saam nie,” sê Mouton, liggeraak. Griessel sug. “Waar is jou kantoor?” “Buitenstraat 16. Jy loop onder die gebou deur wat op die straat is; ons ingang is deur die tuin, agter. Groot bord teen die muur, vra net vir my by ontvangs, op die grond.” “Ons is nou daar.” Hy beëindig die oproep. “Mouton het vir Geyser na sy kantoor toe laat kom. Hy sal oor tien minute daar wees.” “Jissis,” sê Dekker, “wat ’n doos.” “Fransman, ek sal vir Geyser gaan ondervra, maar jy moet by sy vrou uitkom …” “Melinda?” Cloete kan dit steeds nie glo nie. “Mooie Melinda?”
“Ek sal by Mouton hulle huisadres kry, dan bel ek jou. Kommissaris, dit help nog nie vir Vusi nie. Is daar niemand wat hom kan kom help nie?” “Maar dit klink vir my of die Barnard-ding omtrent afgehandel is. As die saak teen Geyser sterk genoeg is, sluit hom toe en kom help vir Vusi. Ons kan môre al die los draadjies vasmaak.” Afrika sien aan Bennie se gesig dit is nie die oplossing waarop hy gehoop het nie. “O.K. Ons kan tydelik vir Mbali Kaleni inbring, tot jy los is.” “Mbali Kaleni?” vra Fransman Dekker met ongeloof. “Shit,” sê Vusi Ndabeni. En voeg dan dadelik by: “I’m sorry …” “Nee, o fok,” sê Dekker. “Sy’s slim. En deeglik,” sê die kommissaris, vir die eerste keer op die verdediging. “Sy’s ’n Zoeloe,” sê Vusi. “Sy’s ’n pyn in die gat,” sê Dekker. “En sy’s by Bellville, daai SB sal haar nie losmaak nie. “Hy sal,” kom John Afrika weer op die voorvoet. “Sy’s al wat ek beskikbaar het, en sy’s op Bennie se mentorlys. Sy kan van Caledonplein af koördineer – ek sal hulle vra om vir haar iets in te rig.” Hy sien geen verligting in Vusi en Fransman Dekker se gesigte nie. “En buitendien,” sê Afrika beslis, “dis net tydelik, tot Bennie weer kan oorneem.” En dan, as agtervoegsel, verwytend: “Julle behoort almal die Diens se pogings te ondersteun om vroue deur te bring.”
* * *
Die jong swart man draf tussen die bome van De Waalpark deur, van die Molteno-reservoir se kant af, gemaklik en atleties, tot by die wagtende Land Rover Defender in Bo-Oranjestraat. “Nothing,” sê hy as hy inklim. “Fuck,” sê die jong wit bestuurder. Hy trek weg voor die deur behoorlik toe is. “We have to get out of here. He would have called the cops. And he saw the Landy.” “Well, then we’ll have to get our cops here too.” Die witte haal sy selfoon uit sy hempsak en gee dit vir die swart man aan. “Call them. Make sure they know exactly where she disappeared. And get Barry down here as well. He’s no use up the fucking mountain any more. Tell him to go to the restaurant.”
* * *
Griessel en Dekker stap saam Loopstraat toe. “Wat het julle teen inspekteur Kaleni?” vra Griessel. “Sy’s die vette,” sê Dekker, asof dit alles verduidelik. Griessel onthou haar, van verlede Donderdag, kort, baie geset, met ’n onaantreklike gesig, strak soos ’n sfinks, en ’n swart broekpak wat te styf sit. “En … ?” “Ons was saam by Bellville en sy irriteer die lewende kak uit almal uit. Fokken bra-brand-feminis, dink sy weet alles, dra nuus aan vir die SB om nog ’n bietjie gat te kruip …” Dekker steek vas. “Ek is diékant toe.” Hy beduie straataf. “Kom AfriSound toe as jy klaar is.” Dekker is nog nie klaar nie: “En sy het hierdie moerse irriterende gewoonte om soos ’n fokken voorbode te verskyn, loop sag soos ’n wet dream op daardie klein
voetjies en dan skielik is sy hier by jou en sy ruik permanent na KFC, al sien jy haar nooit die fokken goed eet nie.” “Weet jou vrou?” “Wat?” “Jy soek Kaleni se lyf.” Dekker grom iets onverstaanbaars en opvlieënds. Dan gooi hy sy kop agteroor en hy lag, ’n diep blaf wat van die oorkantste gebou af terug eggo.
* * *
Griessel dink aan vet poliesmanne as hy na sy kar toe aanstap, aan wyle inspekteur Tony O’Grady. Dik Engelsman, beterweterige slimgat, was altyd besig om aan nougat te kou met ’n semi-oop mond. Het dalk nie so gereeld gebad as wat hy moes nie. Kon drink saam met die bestes, een van die manne, nooit ongewild nie. Dis omdat Kaleni ’n vrou is; die speurders is nog nie reg daarvoor nie. Waar’s die dae van Nougat O’Grady? Toe Griessel nog nugter en vreesloos en geesdriftig was. En altyd spitsvondig; hy kon ’n paradekamer vol speurders laat bulder, elke fokken Maandagoggend. Die dae van Moord en Roof, van asketiese kolonel Willie Theal, nou al drie maande in die graf ná die kanker, van kaptein Gerbrand Vos, later superintendent, met sy skerp blou oë, doodgeskiet voor sy huis deur ’n Vlaktesindikaat. En Mat Joubert … en Griessel onthou wat die kommissaris gesê het, en hy haal sy selfoon uit en bel. “Mat Joubert,” hoor hy die bekende stem aan die ander kant. “Ek sê vir die kommissaris hy moet vir senior superintendent Mat Joubert inbring, want ons het hulp nodig, en die kommissaris sê: ‘Weet jy nog nie van Joubert nie’ …”
“Bennie …” Apologeties. “Wat weet ek nog nie?” “Waar is jy?” “In Loopstraat, op pad om ’n gospelsanger vir moord te gaan arresteer.” “Ek moet stad toe kom. Ek koop vir jou koffie as jy klaar is.” “Om vir my wat te sê?” “Bennie … Ek sal jou sê as ek jou sien. Ek wil dit nie oor die telefoon doen nie.” Dan weet Griessel wat dit is. Sy moed sink. “Jissis, Mat,” sê hy. “Bennie, ek wou jou in elk geval persoonlik gesê het. Bel my as jy klaar is.” Griessel klim in die kar en slaan die deur te hard. Hy skakel aan en ry. Niks bly ooit dieselfde nie. Almal gaan weg. Die een of ander tyd. Sy dogter. Londen toe. Hy het langs Anna gestaan toe Carla wegstap by die lughawe, deur die aanmeldingsaal se bewaakte deur. Tassie op wiele wat sy haastig saamsleep, paspoort en kaartjie in die ander hand, op pad na die Groot Avontuur, op pad weg van hom, van hulle af, en die emosie het hom amper oorweldig daar langs sy vervreemde vrou; hy wou op daardie oomblik aan Anna se hand vat en vir haar sê: “Dis nou net jy en Fritz wat oorbly, want Carla is nou verlore, die grootmenswêreld in.” Maar hy het dit nie gewaag nie. Sy dogter het een keer omgekyk net voor sy om die hoek sou verdwyn. Sy was al ver, maar hy kon die opwinding op haar gesig sien, die verwagtinge, die drome van ’n lewe wat oop voor haar lê. En hy bly altyd agter.
Sal hy vanaand ook agterbly? As Anna hom nie meer wil hê nie? Sal hy dit kan hanteer? En as sy sê: “O.K., Bennie, jy’s nugter, jy kan weer huis toe kom”? Wat de fok doen hy dan? Want die afgelope weke het hy al hoe meer begin wonder daaroor. Miskien is dit ’n soort rasionalisasie, ’n manier hoe hy homself teen haar verwerping wil beskerm, maar hy is nie doodseker dit gaan werk nie – hy en Anna weer bymekaar. Sy kommer daaroor is ingewikkeld, daarvan is hy bewus. Hy is nog lief vir Anna. Maar hy het ’n vermoede hy kon ophou drink juis omdat hy nou alleen is, omdat hy nie meer die geweld en dood na sy gesin toe vat elke aand nie, omdat hy nie by sy voordeur inloop en sy vrou en kinders sien, en bekruip word met die vrees dat hulle ook só sal lê, liggame stukkend, hande verstyf in ’n verskriklike angs vir die dood nie. Maar dis nie al nie. Hulle was gelukkig, hy en Anna. Destyds. Voor hy begin suip het. Hulle het ’n klein gesinswêreld gehad, eers net hulle twee, toe kom Carla en Fritz en hy het saans op die mat met sy kindertjies gespeel en snags teen sy vrou se lyf gelê en hulle het gesels en gelag en liefde gemaak met ’n hartverskeurende gemaklikheid, ’n sorgeloosheid, want die toekoms was ’n voorspelbare utopia, al was hulle arm, al het hulle op elke meubelstuk geld geskuld, op die kar en op die huis. En toe word hy Moord en Roof toe bevorder, en toe glip die toekoms uit sy vingers, uit sy vaste greep, bietjie vir bietjie, dag vir dag, so stadig dat jy dit nie agterkom nie, so subtiel dat jy dertien jaar later uit ’n dronk man se stupor opstaan en besef dis weg. En jy kan dit nooit terugkry nie. Dit is die fokop. Jy kan nie teruggaan nie, daardie lewe, daardie mense, daardie omstandighede is weg, net so dood soos O’Grady en Theal en Vos. Jy moet van voor af begin, maar hierdie keer sonder die naïwiteit en die onskuld en optimisme van hoe jy was, sonder die waas van verliefdheid, jy is anders, jy sit net met wie jy nóú is, met al die kennis en ervaring en realisme en ontnugtering. En hy weet nie of dit moontlik is nie. Hy weet nie of hy die energie het nie – om terug te gaan en elke dag is ’n oordeelsdag: Valkoog-Anna wat hom dophou as hy saans by die huis kom, waar was hy? Ruik hy, lyk hy na drank? En hy sal by
die deur inkom met dié wete en hy sal te hard probeer wys hy’s nugter, hy sal so ’n bietjie gatkruip, hy sal haar angstigheid sien tot sy seker is hy is nugter en dan sal sy ontspan en dit alles voel vir hom te swaar, te veel, dit is ’n vrag wat hy nie reg is om te dra nie. En dan is daar die feit dat hy die afgelope twee, drie maande van sy lewe begin hou het, van sy Spartaanse woonstelletjie, van die kuiers met sy kinders voor sy dogter oorsee is, toe hy en Fritz en Carla in sy sitkamertjie of in ’n restaurant soos drie grootmense, drie … vriende gesit en gesels het, onbelas deur die reëls en regulasies van die konvensionele gesin. Hy het begin hou van die stilte van sy blyplek wanneer hy die deur oopmaak, niks wat hom oordeel en weeg nie, hy kan die yskas ooptrek en die tweeliterbottel lemoensap vat en direk daaruit drink, lank en diep. Hy kan op sy rusbank gaan lê met sy skoene aan en sy oë toemaak en ’n uiltjie knip tot sewe-uur of agtuur en dan na die Engen op Annandale stap en vir hom ’n Woollies Food-toebroodjie en ’n klein botteltjie gemmerbier gaan koop. Of sy groot gunsteling, ’n dagwoordburger by Steers, en vir Carla ’n e-pos kom tik, met twee vingers en kort-kort ’n hap en sluk. Op die baskitaar tokkel en onmoontlike drome droom. Of die iewers-in-die-sewentigs Charmaine Watson-Smith van nommer 106 se kosbak vir haar terugvat. “Oh, Benny, you don’t have to thank me, you’re my charity. My policeman.” Ondanks haar jare is haar oë vol lewe en haar kos elke keer so ontsaglik lekker. Charmaine Watson-Smith wat vir Bella gestuur het. En hy wat Griessel is, het gisteraand vir Bella bygedam en die fok weet, hy is ’n vroueverneuker, maar dit was ongelooflik, dit was so verskriklik lekker. En alles het ’n prys. Want Anna weet dalk van Bella. Anna wat dalk vanaand vir hom gaan sê hy kan miskien nugter wees, maar hy’s ’n ontroue bliksem en sy wil hom nie meer hê nie. Hy wil hê Anna moet vir hom wil hê. Hy soek haar aanvaarding, hy soek haar liefde en haar omhelsing en die veilige hawe van hul huis. Maar hy weet nie of dit nou die regte ding is om te doen nie. Jissis, hoekom is die lewe nie eenvoudig nie? En dan is hy in Buitenstraat en daar’s nie parkeerplek nie en die hede, die werklikheid is soos iemand wat ’n skerp lig aansit en hy knip sy oë teen die
helderheid daarvan.
10:10 – 11:02
15
“Nee,” sê inspekteur Mbali Kaleni, met groot finaliteit. Superintendent Cliffie Mketsu, stasiebevelvoerder van Bellville, reageer nie. Hy weet hy moet wag tot sy haar salvo gevuur het, hierdie uitgesproke, standpuntgedrewe, hardegat vrouespeurder van hom. “Wat van al die ander vroue wat weg is?” vra sy, haar ronde gesig fronsend ontevrede. “Wat van die Somali-vrou waarmee niemand my wil help nie? Hoekom roep ons nie die hele Diens in om aan haar saak te werk nie?” “Watter Somali-vrou, Mbali?” “Die een wie se lyk al twee weke by Soutrivier se lykshuis lê, maar die patoloë sê dis nie prioriteit nie; dit kan natuurlike oorsake wees. Natuurlike oorsake? Omdat dit ’n wond is wat gesweer het, omdat sy in ’n huisie van karton en planke dood is, met niks? En niemand wil help nie, nie Binnelandse Sake nie, nie Missing Persons nie, nie eens die stasies nie, en dit nadat ek vir hulle almal ’n foto gestuur het en gevra het hulle moet dit teen die borde opsit. En dan kom ek daar, dan is hulle net skouerophalend, weet nie eens waar die bulletin is nie. Maar laat ’n Amerikaner wegraak, dan spring almal skielik deur brandende hoepels.” Sy vou haar arms met finaliteit voor haar bors. “Nie ek nie.” “Jy’s reg,” sê Cliffie Mketsu met groot geduld. Sy teorie is dat Kaleni haar pa se kind is. In ’n land waar vaders meestal afwesig is, het sy met twee sterk ouers grootgeword – ’n verpleegster-ma en ’n geleerde man as pa, ’n KwaZuluskoolhoof, ’n gemeenskapsleier, wat sy enigste kind sorgvuldig en doelbewus toegerus het met ’n eie siening, met ’n helder oordeel, en die selfvertroue om dit luid te verkondig. Daarom moet hy haar die geleentheid gee. “Ek weet.” “Die kommissaris het spesifiek vir jou gevra.”
Sy maak ’n ergerlike geluid. “Dit gaan om landsbelang.” “Landsbelang?” “Toerisme, Mbali. Dis ons lewensbloed. Valuta. Werksgeleenthede. Dis ons grootste industrie, ons sterkste hefboom vir opheffing.” Hy kan sien sy versag; die arms kom weg van die bors af. “Hulle het jou nodig, Mbali, om die saak te gaan oorneem.” “Maar wat van al die ander vroue?” “Dis ’n onperfekte wêreld,” sê hy sag. “Dit hoef nie te wees nie,” sê sy en staan op.
* * *
Om tien minute oor drie in die oggend sit Bill Anderson op die ou tweesitplekleerbank in sy studeerkamer, sy regterarm om sy snikkende vrou, ’n koffiebeker in die linkerhand. Ondanks sy oënskynlike kalmte, kan hy sy eie hart hoor klop in die stilte van North Salisburystraat. Sy gedagtes is beurtelings by sy dogter – en die ouers van haar vriendin, Erin Russel. Wie sal die verskriklike nuus aan hulle gaan oordra? Moet hy bel? Of wag vir amptelike bevestiging? En wat kan hy dóén? Want hy wil, hy moet iets doen om sy dogter te help, te beskerm, maar waar begin jy, hy weet nie eens waar sy nou op hierdie oomblik is nie. “They should never have gone,” sê sy vrou. “How many times did I tell them? Why couldn’t they have gone to Europe?” Anderson weet nie hoe om haar te antwoord nie. Hy druk haar net stywer teen hom vas.
Dan lui die telefoon, skril in die nanag. Anderson stort van die koffie in sy beker as hy haastig opstaan. Hy antwoord. “Bill, it’s Mike. I’m sorry, it took a while to track down the congressman, he’s up in Monticello with his family, I just got off the phone with him, and he’s going to get things moving right away. First off, he says his thoughts are with you and your family …” “Thanks, Mike, thank him for us.” “I will. I gave him your number, and he will call as soon as he’s got more information. He’s going to call both the US Ambassador in Pretoria and the Consul General in Cape Town to get confirmation and whatever facts are available. He also knows a staffer with Condi Rice, and he will ask the State Department for all the help they can give. Now, I know you’re a Democrat, but the congressman is former military, Bill, he gave up his law practice on three days’ notice to serve in the first Gulf War. He gets things done. So don’t you worry now, we are going to bring Rachel home.” “Mike, I don’t know how to thank you.” “You know you don’t have to.” “Erin’s parents …” “I’m thinking the same thing here, but we need it to be official, Bill, before we say anything.” “That might be best. I’m thinking of taking Chief Dombkowski with me. I don’t think I can do it alone.” “I’ll call the chief as soon as we have more information. Then we’ll both go with you.”
* * *
Die sersant loop uit Carlucci’s Quality Food Store na sy patrollievoertuig, maak die deur oop en neem die handstuk van die radio. Hy roep die Caledonpleinaanklagkantoor en kry dieselfde konstabel wat hulle hierheen gestuur het. Hy rapporteer dat hulle ’n verklaring afgeneem het, dat ’n jong vrou klaarblyklik deur ’n wit en ’n swart man gejaag is, maar dat daar nou geen teken van enige van die mense is nie. “Kyk of julle iets kry op die stelsel, ’n wit Land Rover Discovery, registrasienommer CA en die syfers vier, een, ses, dis al wat hy kon sien, maar hy is nie doodseker nie. Ons sal nog ’n bietjie rondkyk,” sê hy en dan sien hy die tweede Metro-polisiemotor wat binne minute in Bo-Oranje afry. En hy onthou die twee voetpatrollies van Metro-uniforms wat hulle op pad hierheen gesien het. Pleks dat hulle help met die optog, dink hy. Nou dwaal hulle hier rond op soek na verkeersboetes. Of kopers vir vals rybewyse. Sy skofvennoot kom uit die winkel gestap en sê: “As jy mý vra, is dit drugs.”
* * *
Vusi Ndabeni ontmoet die polisiefotograaf by die Cat & Moose Youth Hostel and Backpackers Inn en vra dat hulle weer vir Oliver Sands en sy kamera moet laat kom. Wanneer Sands by die voorportaal instap, lyk hy steeds gebroke. “I want to use that photograph of Erin and Rachel, please,” sê Vusi. “Sure,” sê Sands. “Can we borrow your camera for a few hours?” “I can just take the memory card,” sê die fotograaf. “O.K. I need … fifty prints. But quickly. Mr Sands, please show our photographer which one is Rachel Anderson.”
“I’ll get it back?” vra Sands. “Ek kan nie die prints vandag by jou kry nie,” sê die fotograaf. Vusi kyk na die man met sy lang krulhare en onwillige houding. Jy moet hardegat wees, het Bennie Griessel gesê. Maar hy is nie só nie. En hy weet nie of hy kan wees nie. Hy sal ’n ander plan moet maak. Vusi sug gedemp. “Môre? Is môre O.K.?” “Môre is beter,” knik die fotograaf tevrede. Vusi haal sy selfoon uit sy sak. “Just a minute,” sê hy, druk ’n nommer in en hou die selfoon teen sy oor. “When you hear the signal,” sê ’n eentonige vrouestem op die lyn, “it will be ten … seven … and forty seconds.” “May I speak to Commissioner Afrika, please,” sê Vusi. Hy fluister vir die fotograaf. “Ek wil net hoor of die commissioner gaan kwaad wees as die meisie môre dood is.” “When you hear the signal, it will be …” “Watter meisie?” vra die fotograaf. Oliver Sands kyk van die een na die ander, onbegrypend. “Ten seven … and fifty seconds.” “Die een op die foto. Sy is iewers, Kampsbaai se kant toe, en daar is mense wat haar wil doodmaak. As ons die foto’s eers môre kry …” “When you hear the signal …” “Wag …” sê die fotograaf. “I will hold for the commissioner,” praat Vusi oor die foon terwyl die vrouestem
sê: “Ten eight exactly.” “Ek het nie geweet nie,” sê die fotograaf. Vusi lig net sy wenkbroue in verwagting. Die fotograaf kyk na sy horlosie. “Twaalfuur, dis die beste wat ek kan doen.” Vusi kyk na die selfoon en beëindig die oproep. “O.K. Vat die prints na Caledon Square toe en gee dit vir inspekteur Mbali Kaleni …” en op daardie oomblik lui sy selfoon en hy antwoord. “Detective Inspector Vusi Ndabeni.” “Sawubona, Vusi,” sê Mbali Kaleni in Zoeloe. “Molo, Mbali,” sê Vusi in Xhosa. “Unjani?” vra sy in Zoeloe. “Ntwengephi,” sê hy in Xhosa om sy punt te maak en dan slaan hy oor na Engels. “Where are you?” “On the N1, coming from Bellville. Where are you?” “I’m in Long Street, but I need you to go to Caledon Square.” “No, brother, I must come to you. I can’t take over the case if I don’t know what’s going on.” “Take over the case?” “The commissioner said I must take over the case.” Vusi maak sy oë stadig toe. “Can I call you back?” “I’m waiting.”
* * *
Griessel stap by die arkade-ingang van Buitenstraat 16 in en sien die gebou is om ’n binnetuin gebou, met geplaveide paadjies tussen blombeddings, ’n visdam en ’n voëlbad. Teen die suidelike vleuel se muur is ’n groot logo van AfriSound, die woord in stokkerige letters wat vermoedelik Afrika-agtig moet lyk. Die kenteken is ’n windgat voël met ’n swart bors, geel keel en wenkbroue, wat oopmond teen ’n oranje son staan en sing. Griessel weet nie watse voël dit is nie. Hy loop na die dubbele glasdeure. Sy selfoon lui. Hy ken nou al dié nommer. “Vusi?” sê hy as hy antwoord. “Bennie, dit lyk my ons het ’n misunderstanding.”
* * *
Die Metro-patrollievoertuig hou langs die twee jong mans in die Land Rover Defender stil op die hoek van Prins- en Bredastraat. Jeremy Oerson sit in die asiersitplek van die Metro-motor. Hy draai die venster af en vra vir die jong wit man agter die Land Rover se stuurwiel: “Do you know what she’s wearing, Jay?” Die jong man knik. “Blue denim shorts, light blue T-shirt. And a backpack.” “O.K.,” sê Jeremy Oerson en reik na sy radio. Hy knik vir die bestuurder. “Kom ons ry,” sê hy.
* * *
“Dankie, kommissaris,” sê Bennie Griessel oor die selfoon, sit dit af en staan vir ’n oomblik kopskuddend voor die glasdeure van AfriSound.
Hy’s nie ’n mentor nie, hy’s ’n fokken brandweerman, want al wat hy doen, is om vure dood te slaan. Griessel sug, trek die deur oop en stap in. Teen die bloedrooi en potblou mure is geraamde goue en platinum-CD’s en plakkate van kunstenaars se optredes. Griessel herken van die name. Agter ’n moderne toonbank van ligte hout sit ’n middeljarige swart vrou, wat opkyk. Haar oë is rooi, asof sy gehuil het, maar die glimlag is moedig. “May I help you?” “I’m here for Willie Mouton.” “You must be Inspector Griessel,” haar uitspraak van sy van perfek. “I am.” “Such a terrible thing, Mr Barnard …” Sy knik in die rigting van die trappe. “They’re waiting for you on the first floor.” “Thank you.” Griessel loop met die houttrappe op, die reling in chroom, nog geraamde CD’s teen die muur, met die kunstenaar of orkes se naam in ’n bronsplaatjie onder elkeen. Die eerste verdieping maak oop voor hom. Die kleurskema is helder en veelkleurig, maar die atmosfeer is morbied. Geen musiek nie, net die stil fluistering van die lugversorging en die gedempte stemme van vyf, ses mense wat om groot, plat chroomkoffietafels sit, op banke en stoele in helderkleurige volstruisleer – blou, groen, rooi. Hulle raak bewus van hom en hou op met praat, kyk na hom. Griessel sien ’n ouerige vrou wat huil, almal lyk ontsteld, maar daar’s geen teken van Mouton nie. Van die gesigte wat hom bestudeer, is bekend – hy vermoed hulle is sangers of musikante. Is Jos Geyser een van hulle? Hy hoop vir ’n oomblik Lize Beekman of Theuns Jordaan is daar, of Schalk Joubert. Maar wat sal hy vir hulle sê, hier, onder dié omstandighede?
Die hoop beskaam. Links, by die venster, staan ’n bruin vrou op by ’n lessenaar. Hy sien sy is jonk en beeldskoon, skerp wangbene, vol mond, lang swart hare. Sy loop om die lessenaar. Elegante, nouende klere, hoëhaksandale, slanke lyf. “Inspekteur?” Dieselfde gedempte vriendelikheid as die ontvangsdame onder. “Bennie Griessel,” sê hy en steek sy hand uit. “Natasha Abader.” Haar hand is fyn. “Ek is mnr. Mouton se P.A. Kom saam, asseblief.” “Dankie,” sê Griessel en loop agter haar aan in die gang af. Hy kyk vir Natasha Abader se klein, perfekte agterstewe en hy kan dit nie help nie, hy wonder of Adam Barnard háár ook in sy kantoor gelooi het. Hy kyk doelbewus weg, na die geraamde CD-omslae teen die muur, nog plakkate. Bordjies langs deure. AfriSound Promo. Production. Finance & istration. Recording Studio. AfriSound On-line. En dan, amper heel agter, regs, Willie Mouton. Director. Na links, nog ’n toe deur. Adam Barnard. Managing Director. Natasha klop aan Mouton se deur en maak oop. Sy steek haar kop in. “Inspekteur Griessel is hier.” Sy staan weg sodat Griessel kan ingaan. “Dankie,” sê Griessel. Sy knik net en stap terug na haar lessenaar. Hy loop in. Mouton en sy prokureur, Groenewald, sit uitgestrek soos twee magnate, weerskante van ’n groot lessenaar. “Kom in,” sê Mouton. Die prokureur steek sittend ’n halfhartige hand na Griessel uit. “Regardt Groenewald.” “Bennie Griessel. Is dit Geyser daar voor?” “Nee, hulle is in die konferensiesaal,” beduie Mouton met sy kop na die onderpunt van die gang. Hy het nou ’n plegtigheid aan hom; die aggressie van vroeër het verdwyn.
“Hulle?” “Hy’t vir Melinda saamgebring.” Griessel kan sy afkeer nie wegsteek nie. Mouton sien dit. “Ek kan nie help nie; ek het nie gesê hy moet haar saambring nie,” asof hy met ’n onderdaan praat. Hy ken Mouton se soort, selfbelangrik in sy klein wêreldjie, daaraan gewoond dat hy die kitaar slaan. En noudat hy die oor van die streekkommissaris gehad het, gaan hy dink hy kan aanhou inmeng. “Ons wil hulle afsonderlik ondervra,” sê Griessel en haal sy selfoon uit. “My kollega het gedink sy sal by hulle huis wees; ek sal hom moet bel.” Hy kry Dekker se nommer en skakel. “Wat weet Geyser?” vra hy terwyl dit lui. “Nog niks. Natasha het net gesê hulle moet in die konferensiesaal wag, maar jy kan sien, hy’s skuldig. Sweet soos ’n vark.” “Bennie?” sê Dekker oor die selfoon. “Dinge het verander,” sê Griessel.
16
Vusi Ndabeni stap haastig in Langstraat af toe John Afrika hom terugbel. “Dis uitgesort, Vusi. Inspekteur Kaleni se bevelvoerder het my verkeerd verstaan,” sê John Afrika “Dankie, kommissaris.” “Sy gaan Caledon Square toe; sy sal solank met die stasies begin praat.” “Dankie, kommissaris.” “Sy gaan jou baie help, Vusi. Sy’s ’n slim vrou.” “Dankie, kommissaris.
* * *
Meer as eenduisend driehonderd kilometer noord, in die Wachthuis-gebou, deel van die Thibault-arkade in Pretoriusstraat, Pretoria, maak die telefoon van die waarnemende nasionale kommissaris van die SAPS ’n enkele bromgeluid. Hy tel dit op. “Die adjunkminister wil met u praat,” sê sy sekretaresse. “Dankie.” Hy aarsel net vir ’n oomblik voordat hy die wit “Lyn 1”-knoppie druk. Hy weet dit gaan nie goeie nuus wees nie. Die adjunkminister bel net as daar slegte nuus is oor die tans-op-langverlof nasionale kommissaris se naderende korrupsiehofsaak. “Môre, minister,” sê hy in Engels.
“Môre, kommissaris,” sê sy en hy kan hoor sy is nie opgewek nie. “Ek het nou net ’n oproep van die Amerikaanse konsul-generaal in Kaapstad gehad.”
* * *
Die voordeur van die Van Hunks is in Kasteelstraat. Daar is ’n neon-uithangbord met die naam en ’n slagspreuk: Smokin’. Inspekteur Vusumuzi Ndabeni trek en druk aan die handvatsel, maar dit is gesluit. “Ai,” sê hy en loop om die hoek na die ingang van die winkel langsaan, ’n onderneming wat ligte verkoop. Hy kry ’n bruin vrou by die betaalpunt en vra of sy weet wanneer daar iemand by die klub sal wees. “Traai die agterdeur,” sê sy en gaan wys hom die dienssteeg agter. Hy bedank haar en loop verby mans wat besig is om kratte bier van ’n vragmotor af te pak en by die klub in te dra, tot binne die kombuis van die Van Hunks. ’n Wit man met ’n kort swart poniestert en klein ogies hou toesig oor die kratte. Hy sien vir Vusi. “Hey!” sê hy. “What do you want?” Aggressief, met ’n vae aksent. Vusi haal sy SAPS-eieningskaart uit. Hy hou dit sodat die man kan lees. “I would like to speak to the manager,” sê hy hoflik. Poniestert, ’n kop langer as Ndabeni, trek sy neus op vir die kaart en die speurder. “Why?” “Are you the manager?” vra Vusi, steeds beleefd. “No.” “I would rather speak to him.” “Her. She is busy.” “Could you take me to her, please.”
“Have you got the warrant?” “No, I don’t need a warrant,” verduidelik hy geduldig. “I am investigating a murder, and the victim was in this club last night. I just need information.” As Poniestert metend na hom kyk, sien Vusi die man se oë sit naby aan mekaar. By wittes, het hy gehoor, is dit ’n teken van domheid. Dit verklaar die man se vrae. “You wait, because they steal my beer,” en Poniestert wys na die swart arbeiders wat die bierkratte indra. “What will the police do about this?” “Did you report it?” “Why?” “Then the police will investigate,” sê Vusi stadig en duidelik. “You have to go to the charge office and report the crime.” Poniestert rol sy oë. Vusi weet nie wat hy daarmee bedoel nie; hy kan dit tog nie eenvoudiger verduidelik nie. “Look, my investigation is very urgent. I need to speak to the manager immediately.” Nog huiwering. Dan sê die man: “Down the age. Third door right.” “Thank you,” sê Vusi en loop by die vertrek uit.
* * *
Willie Mouton hou die deur van die konferensiekamer oop en Griessel stap in. Die Geysers sit by die lang ovaaltafel. Hulle hou hande vas. Bennie het homself twee jong, bruisende engelgesiggies voorgestel, met daardie oordrewe blymoedigheid van die nuutbekeerde. Maar die Geysers is aan die verkeerde kant van veertig, sy dalk ouer as hy. Stroef en gespanne. Jos is ’n groot man met witblonde hare in ’n gestileerde borselkop gesny. Diep lyne op sy gesig, ’n blonde hangsnor wat noukeurig tot op sy ken gesnoei is. Groot skouers en arms,
fyn sweet op die voorkop. Langs hom lyk Melinda klein, ’n poppie, haar gesig rond, rooiblonde hare in ’n kaskade van klein krulletjies, ’n melkwit vel, lang wimpers. Swaar hand met die grimering, die mooi van ’n ander era, iets aan die oë en mond wat in die Parow van Griessel se jeug as ’n “maklike meisie” bekend sou gestaan het. “Willie,” sê Jos Geyser en staan op. “Wat gaan aan?” “Dit is sersant Bennie Griessel van die polisie, Jos. Ons wil graag met jou gesels.” Griessel steek sy hand uit. “Inspekteur,” sê hy. Geyser ignoreer Griessel se hand. “Hoekom?” eis hy met ’n gesaghebbende frons. “Adam is dood, Jos.” ’n Onsigbare hand vee die frons van Geyser se gesig af. Griessel sien hoe hy stadig verbleek. Vir ’n oomblik is dit stil in die vertrek. Melinda Geyser maak ’n geluid waar sy sit, maar Griessel hou sy aandag by Jos. Die groot man se skok lyk eg. “Hoe?” vra Geyser. “Hy’s gisteraand by sy huis geskiet,” sê Mouton. “O heiland!” roep Melinda Geyser. “Ek sal graag alleen met jou wil gesels, mnr. Geyser,” sê Griessel haastig, bekommerd dat die voortvarende Mouton te veel gaan sê. “Melinda, wil jy nie in my kantoor gaan wag nie?” vra Mouton. Sy reageer nie. “Julle maak ’n fout,” sê Geyser vir Griessel. “Wil jy nie sit nie, asseblief, meneer Geyser?”
“Kom, Melinda,” sê Mouton. “Ek bly by Jos.” “Mevrou, ek is bevrees ek sal alleen met hom moet praat.” “Sy bly,” sê Geyser.
* * *
Vusi kry die bestuurder in ’n klein, deurmekaar kantoor met lêers en gerwe rekeninge wat oor die tafel en rakke gesaai lê. Sy sit syfers op ’n groot handrekenaar en intik, geverfde vingernaels wat blitsvinnig op die sleutels pik. Hy klop aan die oop deur se kosyn en vra of sy die bestuurder is. “Yes.” Sy kyk op. Dalk veertig, kort swart hare, sterk gesig, maar hard. Vusi hou sy eieningskaart uit en stel homself voor. “Galina Federova.” Sy skud Vusi se hand met ’n selfversekerde greep. “Why are you here?” haar Engels dieselfde aksent as Poniestert s’n. Vusi gee haar die hooftrekke van die saak. “Please sit down,” iewers tussen ’n opdrag en ’n uitnodiging, die please ’n kort, kragtige plis. Sy begin rekeninge op die tafelblad oplig, op soek na iets. Sy kry sigarette en ’n plastiekaansteker, lig die pakkie se deksel, bied vir Vusi aan. “No thanks.” Sy haal een vir haarself uit, steek dit aan, praat terwyl die rook by haar mond uitkom. “You know how many people last night?” Nee, sê hy, hy weet nie. “Maybe two hundred, maybe more. We are very poplar.”
Die verkeerde uitspraak bring hom vir ’n oomblik van stryk. “I understand that. But something must have happened, Mrs Federova.” “Call me Galia. It is the Russian way for Galina.” “Are you the owner?” “That is Gennady Demidov. I just manage.” Vusi haal sy boekie uit sy binnesak en maak ’n aantekening. “Why you write this down?” Hy haal sy skouers op. “Till what time are you open?” “The door close at twelve on a Monday night.” “And then everybody leaves?” “No. Nobody can come in, but those inside, they can stay. We close the bar when everybody go home.” “This morning at two-fifteen, did you still have people?” “I must ask the night manager. Petr.” “Can you call him?” “He sleeps.” “You will have to wake him up.” Sy is nie lus nie. Sy trek aan die sigaret en blaas die rook deur haar neus uit, soos ’n bul in ’n strokiesprent. Dan begin sy rekeninge oplig, op soek na die telefoon. Hy wonder hoe mense funksioneer wat nie netjies is nie.
* * *
Bennie Griessel loop nader aan Jos Geyser. Hy kyk op na die kolos, wat nou sy kakebeen vasberade uitstoot. “Meneer Geyser, kom ek verduidelik jou keuses: Ons kan hier sit, net ek en jy, en ons kan rustig gesels …” “Ek en Regardt sal ook by wees, Jos, moenie worry nie …” sê Willie Mouton van agter af. “Nee,” sê Griessel, onkant betrap. “Dit werk nie só nie …” “Natuurlik werk dit so. Hy het die reg …” Griessel draai stadig om. “Meneer Mouton,” sy humeur dun. “Ek verstaan dit is vir almal ’n moeilike tyd. Ek verstaan dat die slagoffer jou vennoot was en jy wil graag die saak opgelos hê. Maar dit is mý werk. En nou moet jy my asseblief los dat ek dit kan doen.” Willie Mouton verkleur. Die adamsappel beweeg vinniger, die stem se bandsaagfrekwensie styg. “Hy’t die reg tot ’n prokureur en hy was gister in mý kantoor. Ek en Regardt moet by wees.” Agter Mouton kom Groenewald, die prokureur, van die gang af in, asof hy weet hy sal moet help. Bennie soek geduld, kry die minimum. “Meneer Geyser, dit is ’n ondervraging, nie ’n arrestasie nie. Wil jy hê Groenewald moet by wees?” Geyser kyk na Melinda vir hulp. Sy skud haar kop. “Hy is Willie se prokureur …” “Ek is beskikbaar,” sê Groenewald sedig. “Ek dring daarop aan,” sê Mouton. “Ons al twee …” Bennie Griessel weet dit is tyd om Mouton vas te vat. En daar is net een manier. Hy loop doelgerig na die kaalkop toe, sy amptelike woorde reg op sy tong, maar die sedige prokureur is verbasend vinnig. Groenewald spring tussen die twee mans in. “Willie, as hy jou nou vir dwarsboming toesluit, is daar niks wat ek vir jou kan doen nie.” Hy vat vir Mouton ferm aan die arm. “Kom, ons gaan wag in jou kantoor. Jos weet waar om my te kry.”
Mouton staan; sy mond werk, maar daar kom niks uit nie. Dan draai hy stadig om; sy oë bly uitdagend op Griessel. Groenewald trek hom en Mouton loop deur toe, waar hy oor sy skouer roep: “Jy het regte, Jos.” Dan is hulle al twee uit. Griessel haal diep asem en wend hom tot die sangpaar. “Meneer Geyser …” “Ons was gisteraand in die kerk,” sê Melinda. Hy knik stadig, vra: “Meneer Geyser, wil jy regsverteenwoordiging hê?” Hy kyk na sy vrou. Sy skud haar kop klein. Griessel sien die dinamika. Sy’s die een wat die laaste sê het. “Ek soek niemand nie,” sê Jos. “Kom ons kry net klaar. Ek weet wat julle dink.” “Mevrou, asseblief, sal jy in Mouton se kantoor gaan wag?” “Ek sal daar voor wees. In die lounge.” Sy loop na Jos toe, vat aan sy groot arm, kyk betekenisvol vir hom. “Beertjie …” sê sy. Langs haar man lyk sy klein, maar sy is langer as wat Griessel gedink het. Sy dra ’n denim en ’n seegroen bloes wat haar oë se kleur eggo. Hy vermoed haar lyf was tien kilogram gelede sensasioneel. “Dis orraait, Pokkel,” sê Jos, maar daar is spanning tussen hulle, dit kan Griessel sien. Sy kyk een keer om, dan maak sy die deur saggies toe. Griessel haal sy selfoon uit en sit dit af. Hy kyk op na Geyser, wat met sy voete wyd geplant langs die ovaaltafel staan. “Sit, meneer Geyser. Asseblief.” Hy wys na een van die stoele aan die deur se kant. Jos beweeg nie. “Sê my eers: Is jy ’n kind van die Here?”
17
Op die vierde verdieping van ’n onopvallende gebou by Alfredstraat 24 in Groenpunt klap die skoensole van die provinsiale kommissaris van die SAPS: Wes-Kaap haastig in die lang gang af. Hy is ’n Xhosa, klein van statuur, in volle uniform, maar nou sonder die baadjie, sy blou hemp se moue opgerol tot bo sy elmboë. Hy kom tot stilstand voor die oop deur van John Afrika, streekkommissaris: Speurdienste en Misdaadintelligensie, se kantoor. Afrika praat oor die telefoon, maar hoor sy baas klop en wink hom om in te kom. Hy sê: “Ek bel jou terug,” en sit die telefoon neer. “John, die nasionale kommissaris het nou net gebel. Weet ons van ’n Amerikaanse meisie wat dood is laasnag?” “Ons weet,” sê John Afrika gelate. “Ek het gewonder wanneer die moeilikheid gaan begin.” Die provinsiale kommissaris gaan sit oorkant Afrika. “Die meisie se vriendin het ’n halfuur gelede haar pa in Amerika gebel en gesê iemand wil haar ook doodmaak.” “Van hier af?” “Van hier af.” “Bliksem. Het sy gesê waar sy is?” “Blykbaar nie. Die pa sê dit het geklink of sy moes weghardloop voor sy klaar kon praat.” “Ek sal vir Bennie en Vusi moet laat weet. En vir Mbali,” sê John Afrika en tel sy telefoon op.
* * *
Galia Federova, die bestuurder van die Van Hunks, praat in Russies oor die telefoon en hou dit dan na Vusi uit. “Petr. You can talk with him.” Die speurder neem die foon. “Good morning, my name is Vusi. I just want to know if something happened in the club this morning, between two o’clock and two fifteen? Two American girls, and some young men. We have them on video, running up Long Street, and we have people who say they were in the club.” “There were many people,” sê Petr, sy aksent veel vaer as die vrou s’n. “I know, but did anybody notice anything unusual?” “What is unusual?” “An argument. A fight.” “I don’t know. I was in the office.” “Who will know?” “The bar men and the waiters.” “Where do I find them?” “They are sleeping, I think.” “I need you to call them, sir. I need all of them to come to the club.” “That is not possible.” “Yes, sir, it is possible. This is a murder investigation.” Petr sug diep en beswaard aan die ander kant. “It will take a lot of time.” “We don’t have time, sir. One of the girls is still alive, and if we don’t find her, she will be dead too.”
Vusi se selfoon begin lui. “One hour,” sê Petr. “Ask them to come to the club,” sê Vusi en gee die instrument terug vir Federova. Hy antwoord sy selfoon. “This is Vusi.” “Sy leef nog, Vusi,” sê John Afrika. “Sy’t haar pa in Amerika gebel, ’n halfuur gelede. Maar ek kry nie vir Bennie in die hande nie.”
* * *
Rachel Anderson het in Bo-Oranjestraat afgehardloop, haar oë het desperaat heen en weer gesoek na ’n ontsnaproete, maar die huise aan weerskante van die straat was ontoeganklik – hoë mure, geëlektrifiseerde heinings, sekuriteitstralies en -deure. Sy het geweet daar is nie tyd nie, hulle gaan net sekondes agter haar wees, hulle sal terug deur die koswinkel hardloop, sy het dalk ’n honderd-metervoorsprong. Haar pa se stem het vir haar nuwe dringendheid gegee, ’n smagting om te oorleef, om haar ouers weer te sien, hoe verskiklik moet haar ma haar nie nou bekommer nie, haar liewe, goeie, verstrooide ma. Toe sien sy die huis, net een blok af van die winkel, op die hoek links, ’n eenverdieping- Victoriaanse plek met ’n lae, wit houthortjie-heining en ’n mooi tuin, en sy het geweet dit is haar enigste kans. Sy het oor die heuphoogte heining gespring. Die punt van haar sport-skoen het daaraan vasgehaak, sodat sy anderkant in die blombedding geval het, eers met haar hande wat oneffektief haar val probeer breek, dan haar buik wat oor die gladde oppervlak skuif, haar wind uit, die nat tuingrond wat ’n breë modderstreep oor haar blou T-hemp maak. Sy het dadelik opgeskarrel, sy wou om die huis hardloop, verby die vooraansig, na agter, weg van die pad af, voor hulle haar kan sien. Oor die grasperk, ’n geplaveide paadjie, nog blombeddings, die kleure in vrolike wit en blou en geel. Haar mond was wyd oop om asem te kry. Langs die verste hoek van die huis was bougainvilleas, groot en dig, met pers blomme wat oor die prieelstruktuur tuimel. Skuiling, sy het net vir ’n oomblik gehuiwer, die omvang van die plante
beoordeel, nie besef dit het dorings nie. Sy het daarin geduik, agter, tot in die diep skaduwees, die plant se skerp uitsteeksels het in haar gesteek, haar arms en bene gekrap met lang bloedspore. Sy het sag uitgeroep van die pyn, tot sy hygend in die koelte op haar maag gelê het, agter die blareskans. “Please, God,” het sy geprewel en haar kop straat toe gedraai. Sy kon niks sien nie, net die diep groen gordyn en die klein wit blommetjies in elke pers kelk. As hulle haar nie gesien het nie, is sy veilig. Vir ’n rukkie. Toe het sy haar hand teen haar ledemate afgeskuif om die dorings te probeer uittrek.
* * *
“Laat ek die Amerikaanse konsul gaan bel,” sê die provinsiale kommissaris vir John Afrika en staan op. “Ek gaan sê ons doen alles in ons vermoë om haar op te spoor, John. En dan moet ons seker maak dit is waar. Kry vir Bennie Griessel om volle beheer oor te neem.” “Dis reg. Maar die stasies is traag om mense te stuur …” “Laat dit in my hande,” sê die provinsiale kommissaris en stap deur toe, gaan staan. “Is Griessel nie op vir bevordering nie?” “Dis goedgekeur; ek dink hy hoor vandag.” “Sê dit vir hom. Sê dit vir die hele span.” “Goeie idee,” en dan lui Afrika se telefoon. Die provinsiale kommissaris staan en wag in die hoop dat daar nuus sal wees. “John Afrika.” “Commissioner, this is Inspector Mbali Kaleni. I am at Caledon Square, but they say they don’t have a place for me.”
“Mbali, I want you to go to the station commander’s office, because he is going to get a call right now.” “Yes, sir,” sê sy. “And the missing girl … She’s alive. She called home a half an hour ago.” “Where is she?” “She did not have enough time to say. We need to find her. Quickly.” “I will find her, Commissioner.” Selfversekerd. John Afrika sit die telefoon neer. “Caledonplein,” sê hy vir die provinsiale kommissaris. “Hulle wil nie saamwerk nie.” “Wag,” sê die klein Xhosa in die onberispelike uniform. “Laat ek vir hom ook ’n luitjie gee.”
* * *
“Wil jy my vertel wat gister gebeur het?” Griessel het aan die ander kant van die ovaaltafel gaan sit, met sy gesig na die deur toe. Die groot man sit nou, sy elmboë op die tafel; die een hand vat-vat senuagtig aan die wit hangsnor. “Dit was nie ek nie.” Hy kyk nie vir Griessel nie. “Meneer Geyser, kom ons begin by die begin. Daar was blykbaar gister ’n onderonsie …” “Wat sal jy doen as die Duiwel se kind met jou vrou neuk? Wat sal jy doen?” “Meneer Geyser, hoe het jy uitgevind dat Adam Barnard en jou vrou …” “Ons sondig almal. Maar hy’t nie berou gehad nie. Nooit. Hy’t nie opgehou nie. Afgode. Mammon. Hy’t hoereer.” En dan kyk hy betekenisvol na Griessel en sê: “Hy’t in evolusie geglo.”
“Meneer Geyser …” “Hy’s die duiwel se kind. En vandag brand hy in die hel …” “Meneer Geyser, hoe het jy uitgevind?” Met groot geduld. Hy trek sy skouers regop asof hy homself moet staal. “Sy’t gister by die huis aangekom, toe lyk sy nie lekker nie, toe vra ek haar wat is verkeerd …” Hy stut sy voorkop op sy hand, kyk vir die tafel. “Toe sê sy ‘niks’. Maar ek het geweet iets … Toe sê ek: ‘Pokkel, jy’s nie lekker nie, wat is dit?’ Toe gaan sit sy en sy kan my nie in die oë kyk nie. Toe weet ek daar’s groot fout …” En hy bly weer stil, duidelik onwillig om die gebeure te herbesoek. “Hoe laat was dit?” “Seker so drie-uur, daar rond.” “En toe?” “Toe gaan sit ek by haar en ek vat haar hande. Toe begin sy huil. Toe sê sy: ‘Beertjie, kom ons bid, Beertjie.’ Toe hou sy my hande baie styf vas en toe bid sy en sy sê: ‘Here, vergewe my, want Satan …’” Geyser maak sy hande oop en toe, sy gesig vertrek van emosie. “ ‘… want Satan het vandag in my lewe gekom.’ Toe sê ek: ‘Pokkel, wat het gebeur?’ Maar sy’t net haar oë toegehou …” Die groot man hou sy hand voor sy gesig. “Meneer Geyser, ek weet dit is moeilik.” Geyser skuil agter sy hande en skud sy kop. “My Melinda …” sê hy en sy stem breek. “My Pokkel.” Griessel wag. “Toe vra sy vir die Here hy moet haar vergewe, want sy was swak, toe vra ek vir haar of sy gesteel het, maar toe sê sy, Here, Een Johannes Een vers agt, sy’t dit oor en oor gesê en toe sê ek nee, sy moet ophou, wat het sy gedoen? Toe maak sy haar oë oop en sy sê sy het in Adam Barnard se kantoor gesondig, want sy is nie so sterk as wat ek dink nie, sy kon nie die duiwel keer nie, en ek sê watse sonde, en sy sê: ‘Van die vlees, Beertjie, die groot sonde van die vlees …’ ” Geyser se stem breek heeltemal en hy bly stil, met al twee hande teen sy gesig.
Bennie Griessel sit daar en hy onderdruk die impuls om op te staan en met sy hand aan die massiewe skouer te gaan vat, om te troos, om iets te sê. Want oor vyf-en-twintig jaar het hy geleer dat jy skepties moet bly, dat jy niks moet glo voor die laaste bewysstuk in is nie. Hy het geleer as die swaard van geregtigheid bo jou kop hang, is jy tot enigiets in staat: Ontkennende, hartverskeurende trane, die gepynigde verontwaardiging van die vals beskuldigde, heftige protes, diepe berou of patetiese selfbejammering. Dit laat mense lieg met verstommende behendigheid, dit lei sommige na volkome selfbedrog, sodat hulle in absolute oortuiging klou aan onmoontlike onskuld. Daarom doen hy niks nie. Hy wag net dat Jos Geyser klaar moet huil.
* * *
Galia Federova druk ’n skakelaar en neonligte flikker hoog teen die klub se dak aan, net genoeg om die groot ruimte in skemer te hul. “You can wait here,” sê sy vir Vusi en wys na die tafels en stoele wat om die dansbaan staan. “Would you like something to drink?” “Do you have tea?” Hy verbeel hom sy glimlag voor sy sê: “I will tell them,” en dan is sy weg. Hy loop tussen die tafels deur wat sedert die vorige nag nog nie reggeskuif is nie. Hy gaan staan by een, haal die stoele daarvan af, gaan sit. Hy plaas sy notaboek, pen en selfoon op die blad, kyk in verwondering om hom rond. Regs, teen die muur af, is die lang kroegtoonbank, in rowwe, dik houtbalke. Teen die mure is nagemaakte skeepswrak-ornamente uit die seilskip-era, tussen moderne neonkrulle met seerowermotiewe. Links, heel agter, is ’n bank van draaitafels en elektroniese toerusting, met ’n dansvloer daarvoor. Vier danstorings staan meters bo die dansvloer uit. Heel bo, teen die dak, hang klosse kol- en laserligte, nou af. Reuseluidsprekers is in elke muur gemonteer.
Hy probeer hom voorstel hoe dit gisteraand moes gewees het. Honderde mense, harde musiek, dansende lywe, flikkerende ligte. En nou is dit stil en leeg en spookagtig. Hy voel ongemaklik in dié plek. En in hierdie stad. Dit is die mense, dink hy. Khayelitsha het dikwels sy hart gebreek, die sinnelose moorde, soms drie op ’n dag, die huishoudelike geweld, die verskriklike armoede, die gehuggies, die gesukkel. Maar hy was welkom daar, die bringer van wet en orde, eenvoudige mense, sy mense, hulle het hom gerespekteer, bygestaan, ondersteun. Daar was negentig persent van die sake klinkklaar en eenvoudig. In hierdie stad is die moontlikhede ingewikkeld en legio, die agendas onpeilbaar. Hier is net antagonisme en agterdog. Asof hy ’n indringer is. “Geen respek nie,” sal sy ma sê. “Dis die probleem met die nuwe wêreld.” Sy ma, wat by Knysna olifante uit hout kerf en dit skuur en poleer tot dit die blink van lewe kry, maar weier om dit by die padstal langs die meer te verkoop, “want mense het nie meer respek nie”. Vir haar is die “nuwe wêreld” enigiets anderkant die bruin waters van die Vis- en Mzimvuburiviere, maar daar is nie werk in Gwiligwili, “by die huis”, nie. Nou is sy ’n banneling, uitgelewer aan dié nuwe wêreld. Al gaan sy net een keer per week winkels toe. Die res van die tyd sit sy net voor die sinkplaathuis in Khayalethu-Suid met haar olifante, en wag vir haar seun om te bel op die selfoon wat hy vir haar gekoop het. Of vir Zukisa, om te hoor hoeveel kunswerke hulle aan die respeklose toeriste verkoop het. En dan dink Vusi Ndabeni aan Tiffany October, die skraal jong patoloog. Sy het dieselfde sagte oë as sy ma, dieselfde gentle stem, asof daar groot wysheid daaragter skuil. Hy wil haar bel, en sy buik trek saam. Sal sy met ’n Xhosa uitgaan? “Vra haar,” het Griessel gesê. “Dit kan nie kwaad doen nie.” Hy soek deur sy notaboek na die lykshuis se nommer. Hy bel. Dit lui lank voor hul skakelbord antwoord. Hy trek sy asem in om te sê: “Kan ek met dr. October praat?” En dan begewe sy moed hom; die vrees dat sy
“nee” sal sê, kom lê soos ’n siekte in sy maag. Hy druk die oproep in paniek dood. Hy sê ’n woord vir homself, in ergerlike Xhosa, en bel dadelik vir Vaughn Cupido, die enigste lid van die SAPS se Georganiseerde Misdaad-taakspan in Bellville-Suid wat hy ken. Hy moet lank aanhou voor Cupido antwoord met sy gewone, selfversekerde mantra: “Praat met my.” Vusi groet en vra of hulle iets weet van Gennady Demidov. Cupido fluit deur sy tande, demonstratief, soos altyd. “Genna? Ons noem hom Semi-dof. Brother, die stad behoort omtrent aan hom – prostitution, drugs, afpersing, money laundering, sigarette …” “Hy besit die Van Hunks-klub …” “Ja. En hy’t nóg ’n klub, in Bree, die Moscow Redd, hy’t ’n gastehuis in Oranjezicht wat eintlik maar net ’n hoerhuis is en die storie loop dat die Cranky Croc in Langmark in all but name syne is.” “Die Cranky Croc?” “Die Internet-kafee en kroeg by Groentemarkplein. Maklikste plek in die Kaap om dagga te koop.” “Ek sit met ’n Amerikaanse toeris, omtrent negentien, wie se keel laas nag bo in Langstraat afgesny is. Maar hulle was voor dit in die Van Hunks …” “Dis drugs, Vusi. Klink vir my na ’n koop wat skeefgeloop het. Hulle maak so, die Russe. Wys jou netwerk jy vat nie kak nie.” “ ’n Koop wat skeefgeloop het?” “Semi-dof is ’n invoerder, Vusi. Die dealers kom koop by hom, honderdduisend rand se goed op ’n slag …” “Nou hoekom arresteer julle hom nie?” “Dis nie so maklik nie, brother. Hy’s slim.”
“Maar die meisie het gister hier aangekom, eerste keer in Kaapstad. Sy’s nie ’n dealer nie.” “Sy’s seker ’n mule.” “ ’n Mule?” “Hulle bring die drugs in. Op vliegtuie, vistreilers, enige manier wat hulle kan.” “A,” sê Vusi. “Toe het sy seker nie afgelewer wat sy moes nie. So iets. Ek kan nie vir jou sê wat gebeur het nie, maar dis drugs …”
* * *
Die stasiebevelvoerder van Caledonplein loop in die gang af agter inspekteur Mbali Kaleni, sy misnoeë ononderdrukbaar. Tien minute gelede was alles onder beheer, sy doeltreffende stasie het normaal en doeltreffend gefunksioneer. Toe waggel sy in, sonder om te klop, hiet en gebied, eis ’n kantoor wat hy nie het nie, weier om saam met die maatskaplike offisier ’n ruimte te deel. En die volgende oomblik kry hy ’n uitkak-oproep van die provinsiale kommissaris wat hom daarvan beskuldig dat hy die Diens tot oneer strek. Nou moet Maatskaplik by hom kom sit, sodat dié dominerende vrou daar kan intrek. Hulle loop by die aanklagkantoor in. Sy lyk vir hom na ’n oorvrete kropduif – kort, met die groot ronding voor en die groot ronding agter in die stywe swart broekpak. Groot swart handsak oor die skouer, haar dienswapen hang aan ’n dik swart gordel om die heupe, haar SAPS-eieningskaart aan ’n band om haar nek, seker omdat niemand kan glo sy’s ’n poliesvrou nie. Sy gaan staan in die middel van die vertrek, voete wyd geplant, en klap twee keer skerp op haar hande.
“Listen up, people,” roep sy. Pee-pol, in haar Zoeloe-aksent. Hier en daar draai ’n kop. “Silence!” Hard en skerp. ’n Stilte daal neer, almal gee aandag: klaers, meelopers, uniforms. “Thank you. My name is Inspector Mbali Kaleni.We have a situation, and we need to be sharp. There is an American tourist missing in the city, a nineteen year old girl, maybe in Camps Bay, maybe Clifton or Bantry Bay. There are people trying to kill her. We must find her. I am in control of the operation. So I want you to get every vehicle out there, and make sure they get the message. They must come and fetch a photo of the girl, after twelve o’clock. The provincial commissioner has personally called your station commander, and he will not tolerate any problems …” “Inspector …” sê die konstabel wat die Carlucci’s-oproep geneem het. “I am not finished,” sê sy. “I know where she is,” sê hy, ongeïntimideerd, tot sy bevelvoerder se trots. “You know?” vra Kaleni, die wind effe uit haar seile. “She’s not in Camps Bay, she’s in Oranjezicht,” sê hy.
* * *
Vusi Ndabeni sit in die skemerte van die nagklub en bel vir Bennie Griessel, maar die wit speurder se selfoon is op stempos. “Bennie, dit is Vusi. Ek dink die meisies het drugs ingebring en ek dink hulle moes dit by die Van Hunks kom aflewer het. Ek sit nou en wag vir die barmanne en die waiters, maar ek weet nou al hulle gaan nie praat nie. Ek dink ons moet Georganiseerde Misdaad inbring. Bel my, asseblief.”
Hy kyk weer na die aantekeninge in sy notaboekie. Wat kan hy nog doen? Die videokameras … Hy bel die Metro-polisie se videobeheerkamer, word eindelik deurgesit na die Uil toe. “Ek kan vir jou sê hulle het van onder in Langstraat af gekom. Die kamera op die hoek van Langmark en Lang wys om 01:39 hoe die twee meisies verbyloop, die hoek is nie goed nie, maar ek het dit vergelyk met die ander materiaal, dis dieselfde meisies.” “Verbyloop?” “Hulle loop haastig, maar hulle hardloop definitief nie. Maar op time code 01:39:42 kan jy die ouens sien wat verbykom, die hoek is ’n bietjie beter, ek kan vyf van hulle sien wat in dieselfde rigting hardloop, noord na suid.” “Agter die meisies aan.” “Dis reg. Ek soek nog vir iets voor dit, hoër op in Lang, maar daar was ’n kamera uit anderkant Kortmark; so, moenie jou asem ophou nie.” “Baie dankie,” sê Vusi. Hier, tweehonderd meter van die klub af, het hulle nog gestap, nie geweet van die mans wat kom nie. Wat beteken dit? Hy maak ’n nota in sy boekie. Wat nog? Hy moet vir Dik en Dun bel. Hulle moet Rachel Anderson se bagasie ondersoek vir dwelmtekens. Hy soek hulle nommer op sy selfoon, kry dit, huiwer. Sal dit help? Die laboratorium is ses maande agter, te min mense, te veel werk. Later. Laat hulle eers vir Rachel Anderson kry.
* * *
Fransman Dekker huiwer vir ’n oomblik in die groot ontvangslokaal van AfriSound tot die beeldskone bruin vrou opstaan en na hom toe aankom. “Kan ek help?” vra sy met dieselfde gedemptheid as die swart vrou onder, maar met groter belangstelling. “Inspekteur Fransman Dekker.” Hy hou sy hand na haar uit. “Ek is jammer oor julle verlies.” Sy slaan haar oë neer. “Natasha Abader. Dankie.” Haar hand is klein en koel in syne. “Ek soek na inspekteur Bennie Griessel.” “Hy is in die konferensiekamer.” Haar soeke na ’n ring aan sy vinger is glad, geoefen. Sy gee niks weg as sy die dun goue band sien nie, kyk hom in die oë. “Daar is ’n joernalis daar onder, by julle voordeur. Ons moet hulle asseblief nie laat opkom nie.” “Ek sal vir Naomi sê. Kan ek vir jou koffie aanbied? Tee? Enigiets,” die laaste woord met ’n beheerde glimlag van perfekte wit tande gesê. “Nee, dankie,” antwoord hy en hy kyk weg. Hy wil nie hier ’n ding begin nie. In geen omstandighede nie.
18
“Ek is jammer,” sê Jos Geyser. “Jy hoef nie jammer te wees nie.” “Dis net … sy is my alles …” “Ek verstaan,” sê Griessel. “Ek was plat,” sê Geyser. “Ek was niks. Toe vat sy vir my …” En Jos Geyser gaan haal sy storie by die begin. Griessel laat hom praat. Geyser se emosie is nou onder beheer, sy elmboë op die tafel, starende vir die muur agter Griessel. Hy was op die verkeerde pad, sê hy. ’n Gladiator op TV, vrouens, drank, kokaïen en steroïede, ’n celebrity, groot geld en bekendheid. Toe kanselleer die SABC die program. Oornag. Toe verander alles. Nie dadelik nie, want daar was nog optreegeld by die Gautengse casino’s vir ’n rukkie, daar was nog iets in die bank. Maar sewe maande later toe kan hy nie meer die huur van die tweeverdieping in Sandton bekostig nie, toe sit hulle hom op straat en die balju dra die meubels uit en die bank vat die BMW terug en sy vriende is nie meer sy vriende nie. Drie maande van verbystering, van slaap op ander se rusbanke en bakhand staan vir ’n paar rand by mense wat wat nie meer lus is vir hom en sy moeilikheid nie, toe ontdek hy vir Jesus. In The House of Faith, die groot charismatiese kerk in Bryanston, Johannesburg, en sy hele lewe verander. Want dit was eg. Alles. Die vriendskappe, die liefde, die deernis, die ontferming, die vergifnis vir wat hy was. En toe sê die pastoor hulle het baritonne nodig in die Praise Singers, die kerk se massiewe koor. Jos kon nog altyd sing, van kleins af. Hy’t die stem, die instinktiewe aanvoeling vir harmonie, hy’s daarmee gebore, maar sy lewe het ander paaie geloop, sodat hy weggedwaal het daarvan. Toe word hy ’n praise
singer – en daardie eerste dag, toe sien hy vir Melinda, hierdie mooi vrou met die engelgesig wat oor die koppe van die tenore vir hom glimlag. En ná die oefening, toe kom sy na hom toe en sy sê: “Ek ken vir jou, jy’s White Lightning,” en hy sê hy is nie meer nie, toe word haar oë sag en sy sê: “Kom …” en sy vat hom aan sy hand. In die kerk se koffiekroeg het hulle stories uitgeruil. Sy was ’n geskeide vrou van Bloemfontein, ’n voormalige sangeres in haar eks se vierstuk-orkes, met ’n lewe vol sonde. Verlore ná die egskeiding, het sy agter die moontlikheid van werk Johannesburg toe getrek en The House of Faith was ook haar redding, haar lewensboei in die stormwaters van haar lewe. Hulle het al twee geweet, daardie aand … Maar as jy plat was, dan is jy versigtig, dan praat jy eers, lang ure in die veiligheid van die kerk se kuierplek. Aand na aand. En toe, drie weke later, sit hulle daar ná kooroefening en sy vra: “Ken jy ‘Down to the River to Pray’, die Negro spiritual?” Hy sê: “Nee,” en sy sit daar oorkant hom en sy begin te sing met haar mooie stem, die eenvoudige melodie, tot hy dit het en hy saam begin sing, in harmonie. Eers sag, net hulle twee, en hulle kyk in mekaar se oë, want hulle weet dié twee stemme pas bymekaar, dit was magic, sê Jos Geyser, starende vir die muur, dit was ’n straal van lig uit die hemel. En toe sing hulle al hoe harder, dieselfde lied, en die koffiekroeg het stil geword, heeltemal stil, tot hulle klaar was. “Dit is waar alles begin het,” sê hy. “Ek verstaan.” “Sy’s my alles …” “Meneer Geyser …” “Ek is sommer net Jos.” “Jos, ek moet weet wat gister gebeur het.” Hy kyk vir Griessel en lig sy hande in ’n hulpelose gebaar. “Dit was vir my te veel.” Griessel knik net.
“Ons het niks van Adam Barnard geweet nie. Ons eerste CD was op die Chorus label, ’n klein gospelstudio in Centurion, toe kom praat Adam met ons, toe sê hy ons is te goed om weggesteek te word; ons het ’n wonderlike boodskap en die wêreld moet ons hoor. Hoogheilig, hy’s ’n kind van die Here, hy wil net help … Toe teken ons by hom, toe kom ons Kaap toe. Toe hoor ek van sy dinge …” “Watter dinge?” “Jy weet …” Daar is ’n sagte klop aan die konferensiekamer se deur. Griessel sug. “Kom in.” Die deur gaan oop. Fransman Dekker steek sy kop in. “Bennie …” Griessel staan op. “Verskoon my net vir ’n oomblik.” Hy loop deur toe, trek dit agter hom toe. “Jou selfoon is af,” fluister Dekker. “Ek weet.” Sodat daar nie onderbekings moet wees soos dié nie. “Ek wou net sê ek is hier. Hulle soek net ’n plek waar ek met haar kan praat.” “Ek kom as ek klaar is.” Natasha, die beeldskone persoonlike assistent, kom in die gang afgeloop. “Fransman …” roep sy. Griessel se wenkbroue lig. “Wat?” vra Dekker. “Voornaamterme …” sê Griessel gedemp. Hy haal sy skouers op. “Storie van my lewe.” “Fransman, julle kan in die studio kom sit,” sê Natasha. “Gee ons net so tien minute …”
* * *
Poniestert bring ’n skinkbord in met ’n teepot en bybehore. Hy sit dit drie tafels van Vusi af neer en loop weer uit. Vusi staan op en loop na die skinkbord toe. Hulle gaan almal só wees, Van Hunks se werknemers. Bot en vyandig. Hy gaan niks uit hulle kry nie, dit besef hy. Hy gaan sy tyd mors, want die hele ding van dwelmmuile maak sin. Hy skink tee in die koppie, voeg suiker en melk by, dra die hele skinkbord terug na waar sy goed lê. Oliver Sands het gesê Anderson het iewers skielik verander. Hy gaan sit, plaas die koppie eenkant, blaai in sy boekie, kry die nota. By die Kariba-meer. Skielik nors geword. Dit was seker toe sy die dwelms gekry het. Of besef het dit is weg? Kan ook wees. Sy en Erin Russel wat die goed só wou inbring, want toeriste is Afrika se nuwe goud, by grensposte word hulle deurgewuif. Miskien die dwelms saamgery van Amerika af, miskien van Malawi of Zambië, hy weet nie hoe dié goed werk nie. Dalk nie hulle eerste keer nie. En toe gebeur daar iets, of hulle verkoop dit iewers anders en gisteraand toe kom sê hulle vir Demidov hier by die klub, of vir Galia Federova of die nagbestuurder, Petr. En toe loop hulle terug na die Youth Hostel en ’n minuut of wat later toe stuur Demidov sy handlangers om hulle te gaan keel afsny, die jaagtog wat iewers anderkant Langmark begin het. Hulle vang vir Erin Russel bo by die kerk en sny haar keel af. “Hulle maak so, die Russe. Wys jou netwerk jy vat nie kak nie,” het Vaughn Cupido gesê. Was Erin Russel die spanleier? Of was Rachel Anderson net gelukkig om weg te kom? Dis Demidov se mense wat nou vir Anderson jag. Die vraag is hoe bewys hy dit,
hoe keer hy hulle? Hy steek sy hand na die teepot uit. Hy moet weer vir Griessel probeer. Haal sy selfoon uit en bel. Kry weer stempos.
* * *
Jos Geyser sê vir Griessel hy het sy Pokkel se hande net daar in die sitkamer gelos, want toe is hý van die duiwel besete. Hy het in sy nuwe BMW M3 geklim en van Milnerton-Rif af hiernatoe gery en hy kan niks van dié rit onthou nie, dis hoe erg die duiwel in hom was, hy het so half op die sypaadjie stilgehou, want hier is nooit parkeerplek nie, hy’t hier ingekom en hy was reg om Adam Barnard se nek om te draai, hy kan dit nie ontken nie, as hy vir Barnard hier gekry het, sou hy iets gedoen het waaroor die Here hom sou gestraf het. “Jy erken dat jy in Willie Mouton se kantoor gedreig het om vir Adam Barnard dood te maak?” “Ek het dit al vir Natasha gesê, daar voor. Ek het lelik gepraat. Ek het netnou vir haar jammer gesê. Sy verstaan. Van die duiwel.” “En toe is jy na Mouton toe.” “Eers by Adam se kantoor in, want ek het gedink hulle lieg vir my. Toe’s hy nie daar nie. Toe’s ek by Willie in.” “En toe?” “Toe vra ek of hy geweet het en hy sê ‘nee’ en toe sê ek vir hom ek gaan vir Adam doodmaak. Maar Adam was nie hier nie. Wat kon ek doen?” “Wat hét jy gedoen?” “Ek het hom gaan soek.” “Waar?”
“By Café Zanne en die Bizerca Bistro.” “Hoekom daar?” “Dis waar hy uithang. Middagetes.” “Het jy hom gekry?” “Nee, dank die Here.” “En toe?” “Toe gaan die duiwel uit.” Griessel lig sy wenkbroue. “Die verkeer,” sê Jos Geyser. “Toe ek wil huis toe gaan, toe sit ek in die verkeer vas. Vir ’n uur en ’n half. Toe los die duiwel my.” En dan kyk hy weer vir die muur en hy sê: “Toe sit ek by die robot in Paardeneiland en ek huil, want die duiwel het my beproef en ek het die Here teleurgestel. En Melinda. My Melinda …” “Jos, is jy reguit huis toe?” Geyser knik net. “Besit jy ’n vuurwapen?” Hy skud sy kop. Nee. “Ons sal jou huis moet deursoek, Jos. Ons het instrumente wat kan wys daar was vuurwapens of ammunisie, al is dit nie meer daar nie.” “Ek het nie ’n vuurwapen nie.” “Waar was jy sedert middernag laasnag?” “By Melinda.” “Waar was julle?”
“Ons was kerk toe gisteraand.” “Watter kerk?” “The Tabernacle. In Parklands.” “Tot hoe laat?” “Ek weet nie … Seker so halfelf.” “By die kerk?” “Ons is ná die diens na die pastoor toe. Vir berading.” “Tot halfelf?” “Daar rond.” “En toe?” “Toe is ons huis toe.” Hy kyk vir Griessel, sien dit is nie genoeg nie. Hy verstrengel die dik vingers op die tafel en kyk intens daarna. “Dit was … moeilik. Sy … Melinda … Sy wou hê ek moes haar vashou … Ek …” En hy raak weer stil. “Jos, het jy laasnag die huis verlaat?” “Nee.” “Glad nie?” “Ek het eers vanoggend weer uitgegaan. Toe Willie bel.” Griessel kyk stip na Geyser, sien die eenvoud van dié reus, die kinderlike eerlikheid. Hy dink aan die trane, die absolute gebrokenheid oor die ontrouheid van sy vrou. Hy weet nie of hy hom kan glo nie. Dan dink hy aan die skade wat Adam Barnard gedoen het, aan Alexa, aan Jos, aan hoeveel ander. En dan dink hy aan sy eie ontrouheid van gisteraand en hy staan haastig op en hy sê: “Jy sal hier moet wag, Jos, as jy nie omgee nie.”
* * *
Fransman Dekker vra vir Melinda Geyser om in een van die stoele voor die groot klankmengbank in die opnameateljee te gaan sit, maar as hy die dik, klankdigte deur toemaak en omdraai, staan sy steeds, soos iemand wat eers iets wil sê. “Sit, asseblief,” sê hy. “Ek kan nie …” Ongemaklik, gespanne. “Mevrou, dit kan ’n rukkie neem. Dis beter dat jy sit.” “Jy verstaan nie …” “Ek verstaan nie wat nie?” Hy gaan sit in ’n kantoorstoel op wiele. “Ek … Jy moet my vergewe … Ek is nog outyds …” ’n Handgebaar wat probeer verduidelik. Dekker kyk vraend op na haar. “Ek wil … Ek kán nie met jou oor gister praat nie …” Die manier waarop sy dit sê, maak hom agterdogtig. “Met my?” Sy stem sny soos ’n lem. Sy kan nie vir hom kyk nie, bevestig sy vermoede. “Omdat ek bruin is?” “Nee, nee, ek kan nie met ’n … man praat nie.” Dekker hoor die intonasie, soos iemand wat uitgevang is; hy sien die oogbewegings. “Jy lieg,” sê hy, want die kwaad is vinnig in hom, soos ’n ligskakelaar wat aangesit word. “Asseblief, dis moeilik genoeg.”
Hy kom orent uit die stoel, sodat sy skrik en terugtree. “Jou soort …” sê hy, net vir ’n oomblik buite beheer, ander woorde wat agter sy woede opdam, sy vuiste wat oop- en toemaak, maar dan kry hy van iewers selfbeheersing en hy maak ’n geluid, iewers tussen ongeloof en walging. “Asseblief …” sê sy. Hy kyk met minagting na haar en dan loop hy deur toe, maak dit oop, gaan uit, probeer dit toeslaan. Buite, in die gang, staan Bennie Griessel met sy selfoon teen sy oor en hy sê: “Vusi, ek vertrou die ouens van Georganiseerde Misdaad net so ver as wat ek hulle kan gooi.”
* * *
Barry sit op die stoep van Carlucci’s en hoor die sirenes aankom van onder in die stad. Hy sien hoe ’n jong man met ’n voorskoot dit ook hoor en uitgestap kom. Die patrollievoertuie kom in Bo-Oranje opgejaag, blou ligte wat draai, vier van hulle wat met skreeuende bande hier reg voor die restaurant stilhou, deure wat oopgaan, blou uniforms wat uitpeul. En, by die een asiersdeur, ’n kort, vet swart vrou met ’n groot handsak oor die skouer en ’n vuurwapen op die heup. Sy stap verbete oor die straat, met die horde blou uniforms agter haar aan. Om hom, by die ander tafels, is restaurantkliënte wat dié prosessie met verstomming gadeslaan. Die jong man met die voorskoot wag hulle op die stoep in. “Are you the man who called in about the girl?” hoor Barry die swart vrou met gesag vra. “I am.” “Then tell me everything.” Sy hoor ’n geskuifel agter haar en kyk om, sien die
uniforms, die geamuseerde glimlagte wat skielik onder haar ergernis verdwyn. “You can’t all stand in here. Go wait outside.”
19
Om sewentien minute voor vier in die Amerikaanse Oostelike Standaardtydsone – vyf uur agter Greenwichtyd en sewe uur agter Kaapstad – sit Bill Anderson by die skootrekenaar op sy lessenaar, besig om Internet-artikels oor Suid-Afrika te lees. Sy vrou, Jess, sit met ’n kombers om haar, bene opgetrek, op die leerbank agter hom. Sy ruk van die skrik vir die skielike, skril geluid. Hy gryp die instrument. “Bill Anderson,” sê hy, die kommer duidelik in sy stem. “Mr Anderson, my name is Dan Burton. I am the US Consul General in Cape Town,” glashelder en duidelik, ondanks die groot afstand. “And I know what a difficult time this must be for you.” “Thank you, sir.” “Who is it?” vra Jess Anderson, wat teen haar man kom staan het. Hy hou ’n hand oor die gehoorstuk en fluister: “The Consul General in Cape Town.” Dan hou hy dit só dat sy ook kan hoor. “I can tell you that I’ve just got off the phone with both the National and Provincial Commissioners of the South African Police Ser-vices, and although they have not found Rachel yet …” Jess Anderson maak ’n klein geluid en haar man sit sy hand om haar skouers terwyl hulle luister. “… they have assured me that they will leave no stone unturned until they have done so. They are allocating every available resource to the search as we speak, and they think it is only a matter of time …” “Thank you, sir, but …” “Now, the only reason why the Ambassador himself is not calling you, is because he is away on official matters up north in Limpopo Province, but it is
my job to co-ordinate all functions of the U.S. Government in the Cape Town consular district, where I maintain with senior South African officials, both provincial and national …” “Mr Burton …” “Please call me Dan …” “Our biggest concern is that Rachel said something about the police when she called.” “Oh?” “She said that she could not even go to the police.” Die konsul-generaal bly ’n oomblik lank stil. “Did she say why?” “No, she did not have time. She was very distressed, she said ‘they’re here’, and then I just heard noises …” “She said the police were there?” “No … I don’t know … She said ‘they’re here, please help me’ … But the way she spoke about the police … I don’t know, it was my impression that she could not trust them. And I’ve been doing some reading on the Internet. It says here the man in charge of the whole police force over there is being charged with corruption and defeating the ends of justice… .” “Oh, my God,” sê Jess en kyk na haar man se rekenaarskerm. “Well …” sê die konsul-generaal asof hy eers dié inligting moet verteer. “I know how it looks, Mr Anderson, but I have every reason to believe the law enforcement people in Cape Town are highly competent and trustworthy. I will certainly call the Commissioner right away to get some answers … In the mean time, I’ve taken the liberty of giving your phone number to the authorities. The Commissioner has assured me the officer in charge of the investigation will call you as soon as he can, and he will keep you updated on all developments. His name is … Ghreezil, an Inspector Benny Ghreezil …” “Ask about Erin,” fluister Jess Anderson.
“Mr Burton, Erin Russel … Is there any news about Erin?” “It is with great sadness that I have to tell you that Miss Russel was killed last night, Mr Anderson …” Sy vrou laat die kombers van haar skouers val, sit haar hande om haar man se skouers, druk haar gesig in sy nek, en huil.
* * *
Inspekteur Mbali Kaleni sê vir die uniforms die Carlucci’s-restaurant moet as ’n misdaadtoneel gehanteer word. Sy laat hulle eers die hele gebied afsper met geel misdaadband. Dan ontruim sy die restaurant en laat alle personeel en kliënte buite by die stoeptafeltjies sit, terwyl twee konstabels hul name, adresse en verklarings afneem. Sy beveel ’n sersant om Forensies te laat kom sodat hulle die agter- en buitedeure vir vingerafdrukke kan toets. Sy vra die jong man met die voorskoot, die een wat dit alles sien gebeur het, om saam met ’n konstabel in die SAPSvoertuig na die Caledonplein-stasie te gaan sodat hy kan help met ’n Identikitvoorstelling van die aanvallers. Die jong man sê hy kan nie; hy is in beheer van die winkel. Sy vra of daar iemand is wat hy kan laat kom. Hy sê hy sal probeer. “Hurry up,” sê sy op haar bevelende manier. “We don’t have time.” “Did you check the number?” vra hy haar. “What number?” “The Land Rover’s registration number. I got part of it. I gave it to the guys who were here.” “I will check.” Voor die jong man kan wegstap, vra sy dat hy moet bevestig in watter rigting die meisie en haar aanvallers gehardloop het. Hy wys met ’n vinger, maar sy hou ’n pofhand in die lug. “No, come show me,” sê sy, sit haar sportiewe Adidasdonkerbril op en stap by die restaurant uit, tot op die hoek van Bo-Oranje en
Belmont. Die jong man wys met sy vinger, stad se kant toe. “I want to make sure. You saw her run that way?” “No, I told you, I did not see her run in any other direction, so she must have gone down Upper Orange. The guys came back through the shop, shoved me, ran down to the corner, and the next thing, they came back for the Land Rover. Then they went that way too.” “They were young?” “Yes.” “What is young?” “I dunno, early twenties …” “Fit and strong?” “Yes.” Sy knik en maak ’n gebaar wat sê hy kan maar gaan. Sy roep die sersant wat die verklaring kom neem het. Hy bevestig dat hy die Land Rover se nommer ingeradio het. “Call them. Ask them what they have found.” Hy knik en loop na ’n patrollievoertuig toe. Sy kyk weer na die straat. Hoekom sou hulle teruggekom het vir die Land Rover? Twee jong mans, wat ’n meisie jag sedert twee-uur vanoggend. Sy moet doodmoeg wees, maar hulle hardloop nie agter haar aan nie, hulle kom haal ’n voertuig? Maak nie sin nie. Sy vee sweet van haar voorkop af, verskuif die band van haar groot swart handsak oor haar skouer en sit haar hande op haar heupe, onbewus daarvan dat die uniforms vir haar kyk en agter bakhande grynslag en fluister. Sy draai stadig in die rondte, kyk af in elke straat. Vee weer sweet weg.
Hulle kon haar nie meer sien nie; dit is wat gebeur het. Die twee aanvallers sou haar te voet agterna gesit het as hulle haar in die oog gehad het. Sy’t verdwyn; dit is hoekom hulle die motor kom haal het. Kaleni roep twee jong konstabels wat teen ’n polisievoertuig leun. “You, and you,” wys sy met ’n vinger. “Come here.” Hulle kom, selfbewus en laggend. Sy sê hulle moet agter by die restaurant uitgaan, tot by die houtdeur, waarvan die grendel nog toe is. “But don’t touch anything.” “Yes, Inspector.” “And when I say ‘go’, you run back through the shop, out through the front door, until you get to me. Ask that guy with the apron exactly where they ran, then you follow the same route. You understand?” “Yes, Inspector.” “O.K. Ngokushesha!” Kaleni loop buite om, na die houtdeur toe. Sy wag tot sy die konstabels se voetstappe in die steeg anderkant die deur kan hoor. “Are you right next to the door?” “Yes.” “Don’t touch anything.” Sy kyk na haar horlosie, wag tot die sekondewyser nader aan die twaalfuur-merk kom. “Are you ready?” “Yes.” “When I say go …” en sy tel af, van vyf na een, en blaf “Go!”, hoor hoe hulle wegspring, voeteval eggo teen die restaurantmuur. Sy kyk hoe die sekondewyser aanstap, vyf, tien, vyftien, twintig, dan kom die twee konstabels om die hoek, vier-en-twintig sekondes en hulle is by haar.
“O.K. Now, I want you to start from this door, and run down the street, as fast as you can.” Hulle kyk na haar, uitasem, maar gewillig. Hulle spring weg. “No, wait!” Hulle draai om en kom terug na haar toe. Hulle glimlag nie meer nie. “I will say ‘go’ again,” haar oë op haar horlosie. Sy wag weer vir die twaalfuurmerk, tel af, skree “Go!” en hulle vlieg weg en sy hou hulle en die horlosie dop. Die jong man het gesê die aanvallers het hom gestamp. Voeg een sekonde by, dalk twee. Hulle het dalk tot buite gehardloop, nie geweet in watter rigting sy verdwyn het nie, stilgestaan, gekyk, eers op in Bo-Oranje, regs in Belmont. Nog twee, drie sekondes. Sy merk die twee konstabels se vordering op vier-en-twintig en dertig sekondes, dan skree sy vir hulle: “O.K.!” Maar hulle is al te ver, hoor haar nie, hulle hou aan met hardloop, twee blou uniforms teen volle spoed die lang afdraande af. “Hey!” probeer sy weer, maar dit help nie. “Isidomu,” prewel sy en begin self in die straat af stap, haar oë op die dertigsekonde-merk.
* * *
Rachel Anderson het die sirenes gehoor wat in die straat opgejaag het, net twintig meter van waar sy in die ruigte van die bougainvilleas lê. Sy het geweet dit is vir haar, want die man by die restaurant sou sekerlik die polisie gebel het. En sy kon hoor hoe die geloei net hier bo, op die hoek, stil geraak het. Toe het sy net gelê, al die dorings nou uit haar vlees, net die brand van die wonde oor, haar asem weer normaal, die sweet opgedroog in die diep koelte. Hulle sal haar nie kan sien nie, al loop hulle in die straat verby, al kom hulle tot hier in die tuin.
Sy sal wag tot hulle klaar gesoek het. Tot hulle weer weggaan. Dan sal sy besluit wat om volgende te doen.
* * *
Mbali Kaleni loop tot op die hoek van Bo-Oranje- en Alexandrastraat – min of meer die vier-en-twintig-sekondemerk. Sy stap stadig oor die pad, tot op die sypaadjie anderkant. Die meisie moes hier links gedraai het, in Alexandra. Dit is waarom die twee mans haar nie meer kon sien nie. Maar iets pla. Sy staar in Alexandrastraat op. Die helling. Moeë meisie, vanoggend vroeg, voor ses, het iemand haar daar hoog teen Leeukop gesien, net ná tien hier onder in Oranjezicht, sy’t wye draaie gemaak, maar sy was op pad af, op pad stad toe. Nou kom sy hier en sy kies ’n straat wat haar van dié bestemming weglei. En dis opdraande, steil; dit moet hel wees op lam ledemate. Maar as jy beangs is, as jou aanvallers kort op jou hakke is … Kaleni plaas haar hand ingedagte op die wit houtheining van die Victoriaanse eenverdieping hier links van haar, kyk of sy die twee hardlopende uniform-idiote kan sien. Ja, daar kom hulle teruggestap, rustig en geselsend. Een blok verder is die Molteno-reservoir. Maar dit is meer as veertig sekondes van Carlucci’s af, as Rachel Anderson so vinnig soos twee vars, fikse konstabels kon gehardloop het. Nee, hier, op dié hoek het sy gedraai. Of … Kaleni kyk na die Victoriaanse huis, kyk na die heining. Dit is die enigste huis in dié deel van Bo-Oranje sonder hoë mure of heinings – die enigste ander moontlikheid … En dan sien sy, hier reg voor haar, die skade aan die blombedding, die grondbedekker in ’n breë strook weggeskraap. Sy haal haar donkerbril af, kyk
stip. Sy sien die hande se merke, die voetspore anderkant, drie van hulle voor die grasperk begin. Sy meet met haar oë die afstand tussen die heining en die skade. Sal iemand hier kan oorspring? Dáár land? Sy begin skielik aanstap, soek die tuinhekkie, sien dit, draf daarheen, ’n koddige, haastige figuur met ’n handsak oor die skouer, pistool op die heup en ’n donkerbril in die hand.
* * *
“Ek is nie wit genoeg vir haar nie,” sê Fransman Dekker sodra Griessel die oproep met Vusi beëindig. “Wat?” sê Griessel, sy aandag nog by die selfoon. “Ekskuus, Fransman, ek het nog vier boodskappe …” Hy sit die instrument weer teen sy oor. “Melinda?” vra hy. Dekker met falsetto-sarkasme: “Ek kan nie met ’n man praat nie …” “Ek’s nou klaar …” Griessel luister. “Dis John Afrika …” Dekker loop twee tree in die gang af, draai weer om. “Ma’ dis omdat ek ’n hotnot is. Fokken heilige gospelsangeres …” sê hy en skud sy kop. “Weer John Afrika …” en Griessel skud sy kop. “Hierdie groot Christen,” sê Dekker. “Ek moet die kommissaris terugbel,” sê Griessel verskonend. “Die meisie … Sy het haar pa gebel. In Amerika … Kommissaris, dis Bennie …” Dekker gaan staan by die ateljee se deur, sit ’n handpalm daarteen, leun vooroor, sy kop omlaag. Griessel “ja, kommissaris” en “goed, kommissaris” oor die telefoon, tot hy eindelik sê: “Ek kom, ek’s nou daar,” en hy skakel die foon af.
“Sy wil nie met jou praat nie, want jy’s bruin?” vra hy vir Dekker. “Dis nie wat sy sê nie, maar dit is wat sy bedoel.” “Haar moer. Sy kan ’n prokureur kry, en sy kan vra dat ’n vrou by is, maar dis haar keuses …” “Sê jy dit vir haar.” “Dis presies wat ek gaan doen,” sê Griessel. En dan gaan die krag af.
20
Vusi Ndabeni is rusteloos. Hy drink die laaste van die tee, plaas die koppie op die skinkbord, skuif dit weg. Hoe lank nog voor die mense begin kom, voor Petr sy personeel wakker en aan die gang kry? Wat maak Mbali Kaleni met sy saak daar by die restaurant? Dit is waar die aksie is; hier gaan niks gebeur nie. Miskien nog tien minute wag. As hier dan nog niemand is nie … Dan is die groot vertrek skielik donker, alles onheilspellend stil, want die lugversorger is ook af. Nog ’n kragonderbreking. Gister was dit vir drie uur. Stikdonker, hy kan niks sien nie. Nou wil hy hier uit. Hy vat-vat na sy selfoon, druk ’n sleutel om die skerm te aktiveer, draai dit om sodat die lig daarvan oor die tafel skyn, neem sy notaboek en pen en staan op. Hy loop versigtig tussen die tafels en stoele deur, dan in die gang af. ’n Vae, geel ligband kom uit Galina Federova se kantoor. Hy loop daarheen, sien sy het ’n kers opgesteek, is besig om nog een in ’n leë bierbottel se nek staan te maak. “Hi,” sê hy. Sy skrik, sê iets wat na “Bogh” klink en laat amper die bierbottel val. “I’m sorry …” “Eskom,” sê sy skouerophalend. “What can you do?” vra hy, retories. Sy steek die tweede kers ook aan, gaan sit agter die lessenaar en haal ’n sigaret uit.
“I can do nothing.” Sy steek die sigaret by die kers aan. Russe is dalk nie sterk op retoriese vrae nie. “I’m sorry, but I will have to go.” “I can bring you a candle.” “No. The girl … she was seen.” “Oh?” die potloodstreep-wenkbroue hoog gelig. Hy weet nie wat om daarin te lees nie. Vusi neem ’n visitekaartjie uit sy sak en gaan sit dit voor haar neer. “Please, would you call me when the people from last night arrive?” Federova lig die kaartjie met haar lang naels. “O.K.” “Thank you,” sê Vusi. Hy loop terug soos hy ingekom het, die selfoon as ligbron, deur die kombuis, waar Poniestert nou in die lig wat by die buitedeur inkom, staan en drankbottels tel met ’n potlood in die hand. “What you do about the power? What the police do?” Hy oorweeg dit ’n oomblik om geduldig vir die man te verduidelik dat dit niks met die polisie te doene het nie. Dan sê hy net: “We call Eskom.” Vusi loop by die agterdeur uit tot in die steeg, die sonlig verblindend helder. Hy hoor Poniestert roep: “Funny. I love funny cop,” maar hy is haastig, sy motor staan heel bo in Langstraat, dis meer as tien minute se stap, hy wil met Kaleni by die restaurant gaan praat, hy wil … Vusi gaan staan, net waar die steeg in Strandstraat uitmond. Daar’s iets wat hy kan doen, al sê Bennie Griessel hy wil nie vir die Georganiseerde Misdaad-eenheid inbring nie. Hy kies Vaughn Cupido se nommer, en bel. “Praat met my,” antwoord Cupido dadelik. “Het julle foto’s van Demidov se mense?” Cupido antwoord nie.
“Vaughn, is jy daar?” “Hoekom vra jy?” Met agterdog. “Het julle, Vaughn?” “I cannot confirm or deny.” “Wat beteken dit?” “Dit beteken ek’s net ’n inspekteur. Jy sal hoër op moet vra.” “Vir wie?” “Die senior sup.” “Vaughn, ons het ’n man wat twee van die aanvallers netnou by ’n restaurant in Oranjezicht gesien het. As hy Demidov se mense kan ID … Dit kan die meisie se lewe red.” Weer is daar stilte. “Vaughn?” “Let me get back to you …”
* * *
Rachel Anderson hoor die klik-klik van vroueskoene in die tuinpaadjie net meters van haar af, en nog ’n geluid – die ritmiese fluistering van materiaal wat op materiaal skuur. Die geluide raak skielik stil, dan ’n sug, dan die geluid van iemand wat hard aan ’n deur klop. Rachel hou haar asem vlak; sy draai haar kop stadig sodat sy haar voete kan sien. Is sy diep genoeg in die ruigte? Weer die gehamer aan die deur. “Hello, anybody home?” in ’n Afrika-aksent, ’n
vrou, groot dringendheid in haar stem. Wat beteken dit? “Hey, guys!” blaf dieselfde stem, outoritêr. “I called you back, but you did not hear.” ’n Manstem antwoord van die straat se kant af, dan roep dieselfde Afrika-vrou: “No, stay on the pavement, this might be a crime scene. Just go and tell them at the restaurant I need Forensics. Shoe imprints, I want them cast and identified.” En dan die geluid van ’n deur wat oopgaan en ’n manstem: “Can I help you?” “How are you?” “That is not an appropriate question. Why are you hammering on my door?” vra die manstem kalm, bedeesd. “Because your doorbell is broken.” “It’s not broken; there is a power failure.” “Again?” “Yes. Can I help you?” “I am Inspector Mbali Kaleni of the SAPS. We are looking for a girl who is running away from assailants, and I think she was in your garden. I want to know if you saw her.” “I didn’t see her …” “Over there. Can you come and look?” “Is that your police ID?” “Yes. ” “When did this happen?” “About forty minutes ago. Can you please come and look at your garden? You
did not see her?” “No. But I heard her …” Rachel Anderson se hart word koud. “You did?” “Yes,” sê die man. “I heard footsteps, around the corner of the house …” “Here?” “Yes, just here. But I heard her run to the wall there, I think she jumped over, to the next house. By the time I looked through the window, she was gone.” “Take a look at the tracks,” sê die polisievrou. ’n Oomblik se verligting as die stemme vaer raak, maar dan versnel Rachel se polsslag, want sy weet nie waar haar spore lê nie. Dan onthou sy die val in die bedding, toe sy oor die heining gespring het. Maar is dit al? Lei haar spore hierheen? Sy het in die klam grond getrap; dit kon op die gras vasgesit het, op die leiklip van die paadjie. Sy hoor die vrou se voetstappe weer op die tuinpaadjie. Sy lê doodstil en maak haar oë toe.
* * *
Bennie Griessel het die dik deur van AfriSound se opnameateljee ergerlik en haastig oopgemaak, want John Afrika het gesê hy moet gou maak; hulle wag vir hom. Toe is die vertrek stikdonker, want daar’s nie vensters nie. Die ligbaan van die deur af het Melinda Geyser verlig; sy’t daar gestaan met groot, verskrikte oë, haar hande op haar hart saamgevou, Bambi In Gevaar. Toe sê hy: “Die krag is af” en sy laat haar hande sak, asof sy gedink het die donker vertrek is ’n polisietruuk.
Toe loop hy na haar toe en hy sê met al die geduld wat hy kan bymekaarskraap: “Mevrou, jy sal met inspekteur Dekker moet praat. Met of sonder jou prokureur. Dis jou keuse. Jy kan versoek dat hy ’n vrouelid laat kom, maar jy’s nie ’n slagoffer nie; dis sy diskresie.” “ ’n Vrouelid?” Verward. “ ’n Vroulike lid van die polisie.” Sy het dit oordink. Toe sê sy: “Hy’t my verkeerd verstaan.” “O?” “Na aanleiding van gister se gebeure het ek net bedoel dit sou makliker gewees het om met ’n vrou daaroor te praat,” ’n welsprekende skapie sonder gal. “Nou hoe wil jy maak?” “Ek wil net seker maak dit is vertroulik.” Toe verduidelik hy vir haar as sy of Jos aangekla word, is niks vertroulik nie. “Maar ons het niks gedoen nie.” “Dan sal alles vertroulik bly,” en sy het ingestem en hy moes by fokken Mouton gaan vra waar Fransman nou vir Melinda kan ondervra, want die ateljee is te donker. Toe bring Natasha ’n gaslamp en gaan sit dit aan by Melinda in die opnameateljee. Nou kyk Griessel en Dekker hoe Natasha wegstap. Toe sy om die hoek verdwyn, trek Bennie sy kollega aan die arm, tot voor Adam Barnard se leë kantoor. Hy het ’n boodskap van die kommissaris af wat hy aan Dekker moet oordra, en hy weet wat die reaksie gaan wees. Daar is net een manier om dit te doen: “John Afrika sê ek moet Mbali Kaleni laat kom om jou by te staan.” Fransman Dekker ontplof. Nie onmiddellik nie, dit is asof die implikasies eers in hom opstapel, sy lyf ruk regop, sy oë word wild, sy mond gaan een keer oop en klem dan met springende kakebeenspiere toe voor dit alles uitbars as hy met sy vuis donderend teen Adam Barnard se deur slaan en sê: “Jirre-jissis.” Hy draai
wild in die rondte, mik weer vir die deur, maar dan is Griessel by hom, klem die arm vas. “Fransman!” Dekker beur aan die arm. “Dit bly jóú saak.” Die bruin speurder staan, oë stokstyf, die arm steeds in die lug. Griessel voel die krag van die groot skouers as hy daaraan rem. Dan kom die arm stadig af. “Ek het ’n seun in matriek,” sê Griessel. “En hy sê die hele tyd vir my ‘Pa moet chill’ en ek dink dit is wat jý nou moet doen, Fransman.” Dekker se kakebeenspiere begin weer werk. Hy ruk sy arm uit Bennie se greep, kyk kwaad vir die deur. “Jy laat jou deur alles opwen, Fransman, en dit help fokkol.” “Jy sal nie verstaan nie.” “Traai my.” “Hoe kan ek? Jy’s wit.” “Wat beteken dit?” “Dit beteken jy’s nie bruin nie,” sê hy met ’n ergerlike vinger wat na Griessel se gesig wys. “Fransman, ek het nie ’n fokken idee …” “Het jy gesien, Bennie? Verlede week, by die kommissaris? Hoeveel coloureds was daar?” “Dit was net jy.” “Net ek, ja. Want hulle druk die darkies. Dis hoekom Kaleni nou kom. Hulle
moet oral ingedruk word. Ek’s ’n fokken statistic, Bennie, ek’s daar om hulle fokken kwota vol te maak. Het jy die kommissaris gewatch Donderdag, hy’t net oë vir die fokken Xhosas gehad, hy’t my nie eers gesien nie. Agt persent Kleurlinge. Agt fokken persent, dis hoeveel van ons hulle wil hê. Wie’t dit besluit? Hoe? Weet jy hoeveel bruines is in ons moer in? Duisende, ek sê jou. Not black enough, sorry, brother, off you go, gaan kry ’n job by Coin Security, gaan dryf ’n fokken cash van. Ma’ nie ek nie, Bennie, ek gaan nêrens.” Fransman Dekker se drif dryf sy taal van wit Afrikaans na die woorde en ritmes van Atlantis. “Dis my fokken lewe dié, ek was só groot, toe sê ek vir my ma ek gaan ’n policeman word, sy’t haar gat afgechar lat ek matriek kan maak en polieste toe kan gaan. Nie ’n fokken cash van dryf nie …” Hy vee speeksel van sy lippe af. Griessel sê: “Ek verstaan, Fransman, maar …” “Jy dink so? Is jy jou lewe lank gemarginalise? Noudat julle whiteys affirmative action aan julle gatte begin voel, nou dink julle julle verstaan? Julle verstaan fokkol, ek sê jou. Julle was óf Baas óf Klaas, ons was fokkol, nog altyd, eers nie wit genoeg nie, nou’s ons nie swart genoeg nie, it never ends, stuck in the fucking middle of the colour palette en dan sê dié wit Christenvrou nee, sy praat nie met ’n man nie, maar sy weet nie ek kan haar lees soos ek al die whiteys kan lees nie.” “Kan jy my lees, Fransman?” Griessel wat self opgewerk raak. Dekker sê niks nie, hy draai net weg, sy asem vinnig. Griessel loop om hom, sodat hy in sy gesig kan praat. “Hulle sê jy’t ambisie, nou laat ek vir jou sê, ek het my fokken loopbaan weggegooi omdat ek nie beheer gehad het nie, omdat ek al die kak laat inkom het. Dis hoekom ek nou hier staan. Want ek het nie meer opsies nie. Wil jy opsies hê, Fransman? Of wil jy ook op vier-en-veertig nog ’n inspekteur wees met ’n posbeskrywing wat sê ‘mentor’ omdat hulle fokkol anders met jou kan doen? Weet jy hoe dit is? Hulle kyk jou so op en af en jy weet hulle dink watse kak het hy aangejaag dat hy met al daardie grys hare nog ’n fokken inspekteur is. Is dit wat jy wil hê? Wil jy meer wees as die fokken rasstatistieke van die Diens? Wil jy die beste poliesman wees wat jy kan wees? Dan los jy nou jou kak en jy vat hierdie saak en jy werk hom, maak nie saak wat hulle sê of hoe hulle met jou praat of wie John Afrika vir jou stuur om te help nie. Jy’t regte, net soos Melinda Geyser. Daar’s reëls. Gebruik dit. In elk geval, jy kan doen wat jy wil, dit gaan nie verander nie. Ek is al meer
as vyf-en-twintig jaar ’n poliesman, Fransman, en ek sê nou vir jou, hulle gaan jou altyd soos ’n hond behandel, die mense, die media, die grootkoppe, die politici, maak nie saak of jy swart, wit of bruin is nie. Behalwe as hulle jou in die middel van die nag bel en sê: ‘Hier’s iemand by my venster,’ dan’s jy ’n fokken hero, maar môre as die son skyn, is jy weer niks. Die vraag is: Kan jy dit vat? Vra jouself. En as jy nie kan nie, los dit, gaan soek ’n ander job. Of sluk dit af, Fransman, want dit gaan nie ophou nie.” Dekker staan en asemhaal. Griessel wil nog iets byvoeg, maar hy besluit daarteen. Hy tree weg van Dekker af, sy kop wat werk, sy fokus verskuif. “Ek dink nie dit was Jos Geyser nie. As hy lieg, moet hy ’n Oscar kry. Melinda is die enigste alibi wat hy het, en daar’s iets aan haar … Sy weet nie wat hy gesê het nie, laat sy praat, kry haar om detail te gee oor gister, presies wat gebeur het, dan bel jy my dat ons die stories kan vergelyk. Ek moet nou kommissaris toe.” Dekker kyk nie vir hom nie. Griessel loop weg, gangaf. “Bennie,” sê Dekker as hy al amper by die ontvangsarea is. Griessel draai om. “Dankie,” met ’n onwillige opregtheid. Griessel maak ’n handgebaar en loop. Een van die mans in die sitarea staan van ’n volstruisleerbank op en probeer hom onderskep. Bennie probeer oogkontak vermy, maar die man is te vinnig vir hom. “Is jy van die polisie?” Hy’s lank, net oor die dertig, die gesig wat vir Griessel baie bekend lyk. Haastig, gesteurd, sê hy: “Ja, maar ek kan nie nou met jou praat nie,” en hy wil byvoeg “want hulle fok my rond”, maar hy doen dit nie. “My kollega is nog daar binne. Praat met hom as hy uitkom,” en hy draf uit, af met die trappe, oor die grasperk, na waar sy motor staan. Daar is ’n parkeerkaartjie teen Griessel se motorruit geplak, in die middel van die bestuurder se venster.
“Fok,” sê hy, die gatvolheid wat oor die damwal van sy selfbeheersing stoot, want dis nog papierwerk wat hy nie nodig het nie. Metro-polisie het fokken tyd vir kaartjies skryf, maar moet hulle net nie vra om met iets anders te help nie. Hy los die kaartjie net daar, klim in, skakel die enjin aan en trek agteruit, krap die ratte, ry. Hy gaan die kommissaris vir ’n fokken posbeskrywing vra. Want Bennie Griessel, Groot Mentor, werk nie vir hom nie. Hy’t verlede Donderdag vir John Afrika gevra wat dié ding gaan behels. Toe’s die antwoord: “Bennie, jy’s my safety net, my supervisor. Hou net ’n oog, kyk na die crime scene management, moenie dat hulle verdagtes miskyk nie. Want bliksem, Bennie, ons train hulle dat dit by almal se ore uitkom, maar dit lyk my as hulle op die scene staan, dan’s dit stage fright of sommer net slapgatgeit, ek weet nie meer nie. Miskien druk ons hulle te gou, maar ek moet my targets maak, wat kan ek doen? Kyk na die bliksemse Van der Vyver-saak; nou dagvaar hy die minister vir miljoene; ons kan nie dat dit weer gebeur nie. Loer net oor skouers, Bennie, gee ’n gentle nudge waar dit nodig is.” ’n Fokken gentle nudge? En dan moet hy skerp rem vir die verkeersknoop hier voor hom, twee rye motors, tien diep. Die kragonderbreking beteken die hele stad se verkeersligte is uit. Chaos. “Jissis,” sê hy hardop. Want Eskom is minstens een staatsinstelling waar dit nog kakker gaan as by die SAPS. En dan leun hy terug teen die sitplek. Kwaad word help nie. Maar die fok weet, wat maak jy? Van die een saak na die ander. Nou hier, nou daar. Dis weer ’n resep vir ’n ramp. As Jos Geyser nie vir Barnard geskiet het nie … Die man wat hom daar binne wou onderskep, hy onthou meteens wie dit is. Iván Nell, die bekende sanger, hy’t al sy goed op RSG gehoor, goeie, gemoduleerde rock, al is hy suinig met die bass, en vir ’n oomblik is hy spyt hy’t nie vinnig gesels nie, hy kon vanaand vir Carla daaroor geskryf het, maar dis hoe dit is, tyd
vir fokkol behalwe in die verkeer sit en swets. En hy’s honger, sedert gisteraand nog net koffie gehad, hy sal sy bloedsuiker moet regruk en Griessel kry skielik lus vir rook, maak die paneelkissie oop, krap daarin, kry die halwe pakkie Chesterfields en die gehawende dosie Lionvuurhoutjies en hy steek vir hom een aan, draai die venster af, voel hoe die hitte van die teerstraat opstyg en by die oop ruit invloei. Trek aan die sigaret, blaas die rook stadig uit, dit dam op teen die voorruit en swiep dan uit by die venster. Vanoggend het Alexa Barnard vir hom ’n sigaret aangebied, toe sê hy nee dankie. “ ’n Alkoholis wat nie rook nie?” het sy gevra. Toe sê hy hy rook net nou en dan, want sy AA-borg is ’n dokter. Toe sê sy kry ’n ander borg. Hy hou van haar. Hy moes haar nie die drank gegee het nie. En dan onthou hy hy wou vergoed het vir sy fout. Hy soek met sy hand in sy sak terwyl hy nog ’n karlengte vorder, haal die selfoon uit, bewerk die sleutels met sy duim en bel. Dit lui lank, soos gewoonlik. “Bennie!” sê dok Barkhuizen, altyd fokken opgewek. “Byt jy vas?” “Dok, het jy al ooit gehoor van die beroemde sangeres Xandra Barnard?”
* * *
“They’re taking a lot of interest in a house here,” sê Barry oor die selfoon. Hy ry stadig in Bo-Oranje af in sy gehawende rooi Toyota-enkelkajuit. “What sort of interest?”
“There’s about a thousand uniformed constables on the pavement, and this fat female detective standing in the garden with a geriatric guy.” “So find out what it’s about.” Barry kyk na die huise in die straat. Regs, honderd meter oorkant die Victoriaanse huis, is ’n moontlikheid, ’n lang teeroprit na ’n enkelmotorhuis. “Yeah …” Dan sien hy van die uniforms wat vir hom kyk. “Maybe. But not right now, there are too many eyes. Let me give it ten minutes or so …”
11:03 – 12:00
21
Die sissende gaslamp staan op die ateljee se mengbank en rek Melinda Geyser se skaduwee lank en absurd teen die oorkantste muur. Sy staan met haar gesig net sentimers van die glas, die opnamehokkies anderkant in skemer gehul. Dekker sit vooroor in ’n leerstoel op wiele, sy elmboë op sy knieë, want die stoel se rugkant kraak luid as hy terugleun. Hy sweet. Sonder lugversorging raak dit al hoe warmer hier. “Ek is jammer oor die misverstand,” sê sy en vou haar arms onder haar borste. Haar silhoeët is nie sonder bekoring nie – die groen bloes, die denim met ’n wit leergordel en ’n groot silwer gespe, wit insteeksandale met die wighakke van kurk. Maar dit pla hom: Dis nie wat hy verwag het van ’n gospelsangeres nie, dit sit net daardie bietjie té styf, dit herinner hom aan die soort vroue wat gewoonlik die blatantste is in hul belangstelling in hom – laat dertigs, vroeë veertigs, skoonheid wat kwyn, maar hulle wil die laaste jare van lyflike sensualiteit nog een keer vir ’n spin vat. Miskien is dit ’n sangeres-ding, dink hy, en sê: “Ek het dalk oorreageer,” en die opregtheid in sy stem is vir hom nuut. “Weet jy wat is die verskil tussen ’n CD maak en die lewe?” vra sy. Sy bly na die glas staar. Hy wonder of sy na haar eie weerkaatsing kyk. “Nee,” sê Dekker. “Die verskil is dat jy net een take kry vir die lewe.” Gaan sy nou vir hom preek? “Adam het my nog nooit gevra om alleen in te kom nie. Gisteroggend, toe bel hy en hy sê hy sal my moet sien. Dit was sy woorde, asof hy nie ’n keuse gehad het nie. Asof ek in die moeilikheid is. ‘Ek sal jou moet sien. Net vir jou’. Soos ’n skoolhoof wat ’n stout kind inroep.”
Dan beweeg sy, vou haar arms oop, draai na Dekker toe, gee twee treë en gaan sit op ’n tweesitplek-leerbank oorkant hom, haar regterarm op die leuning, die linkerhand langs haar op die kussing. Sy kyk hom in die oë en sy sê: “As jy dinge in jou lewe gedoen het wat jou kan inhaal, dan sê jy ‘ja’. Dan vertel jy vir jou liewe man ’n leuen, meneer Dekker, en jy ry na Adam Barnard se kantoor toe en jy gaan sit en jy vra wat aangaan.” Meneer. Nou is hy ’n meneer. Adam Barnard, gewoonlik joviaal, was ernstig, sê sy en sit doodstil terwyl sy praat, geen beweging van lyf of hande nie, asof sy op dun ys oor donker water loop. Daar is ’n vasberadenheid aan haar stem. Barnard het ’n dun DVD-kissie oor sy lessenaar na haar toe aangestoot, die opneembare soort wat nog die vervaardiger se handelsmerk onder die deurskynende plastiek wys. Sy het vraend na hom gekyk. Hy het niks gesê nie. Sy het dit oopgemaak. Die DVD was daar binne. Iemand het met die hand, in permanente ink, op die skyf se wit bokant geskryf Melinda. 1987. Toe weet sy wat dit is. Sy skep hier asem, kyk na regs, na die glas, asof sy haarself een laaste keer wil sien. “Jy het nodig om te weet van my agtergrond, meneer Dekker. Ons leef in ’n vreemde wêreld, in ’n gemeenskap wat moet etiketteer om te kan akkommodeer.” Haar taalgebruik is vir hom verrassend, veel meer gesofistikeerd as wat hy verwag het. “Maar die proses is nie logies óf regverdig nie. As jy iemand is wat van nature sukkel om te konformeer, is jy ’n rebel, as jy jonk is. Maar later kry dit ander name. Ek was ’n sogenaamde rebel. Op skool was ek … ongehoorsaam. Ek wou alles op my manier doen. Ek was nuuskierig. Oor alles. Ek het ’n soeke na opwinding gehad, na alles wat ’n goeie Afrikaner-meisie nie veronderstel was om te doen nie. En ek het vir baie jare mans verkies aan wie daar ’n sekere risiko was. Instinktief, dit was nie ’n bewustelike besluit nie. Ek wonder soms of dit anders sou gewees het as dit my enigste swakheid was. Maar dit is nie. Ek het ook van vroeg af ’n behoefte gehad aan erkenning. ’n Bevestiging dat ek nie gewoon is nie. Ek wou uit die massa raakgesien word; dit is nie noodwendig ’n soeke na roem nie, net ’n behoefte aan aandag, dink ek. En op die ou end is dit
dié kombinasie wat maak wie ek is.” Sy is nie dom nie, dink hy. Sy is ’n vrou wat maklik sal kan bedrieg. “Ek was nog nooit vreeslik mooi nie. Nie dat ek lelik is nie, ’n mens moet jou seëninge tel: As ek gebruik wat ek het, kan ek aandag trek, maar ek laat mans nie na hul asem snak nie. Ek het geweet ek is slim genoeg om te gaan leer, maar daar is nie ’n graadkursus vir wat ek wou wees nie. Al wat oorgebly het, was my stem. En ’n verhoogpersoonlikheid, maar dit het ek eers later ontdek. En toe kruis my pad met Danny Vlok. Hy kan enigiets speel, van viool tot trompie. Hy het ’n musiekwinkeltjie in die stad gehad, in Bloemfontein, en ’n vierstukorkes vir troues en partytjies. Ek het sy advertensie vir ’n sangeres in Volksblad se kleinadvertensies gesien. Danny se droom was om ’n rock-ster te wees. Hy het soos een probeer lyk. Ek het daarvan gehou op daardie ouderdom, en hy was tien jaar ouer as ek. Wêreldwys. Hy’t soos ’n rocker probeer leef ook. Hy’t gedrink en dagga gerook. Die enigste probleem was dat Danny net ander mense se musiek kon sing. Sy eie was … nie goed nie. Ek het vir ’n oudisie vir sy orkes gegaan en ná die tyd het ons in sy woonstel in Parkweg eers ’n zol en toe seks gehad. Ons is twee maande later voor die landdros getroud. Ons is vier jaar later geskei.” Sy ís besig om haarself te straf met die vertelling, dink Dekker. Dit is haar boetedoening, dié gestrooptheid. Maar nou bly sy skielik stil en kyk rond. “Hier is gewoonlik water. Dit is baie warm …” “Ek sal vir Natasha vra,” sê hy en staan op. Toe hy die deur oopmaak en uitgaan, sien hy vir Jos onder in die gang, bekommerd, rusteloos. “Is julle klaar?” “Nog nie, meneer Geyser.” Die groot man knik net en loop terug na die konferensiekamer.
* * *
Rachel Anderson hoor die stemme daar anderkant, maar nie die woorde nie. Hulle is al lank genoeg besig dat sy met al hoe meer sekerheid glo daar is nie spore wat hiernatoe lei nie. Die spanning vloei stadig uit haar lyf; haar hart kom tot bedaring. Tot sy weer die klik-klak van ’n vrou se hakskoene hoor, tot hier reg langs haar, net twee, drie treë. “O.K. Thank you,” sê dieselfde swart vrou van vroeër. “I hope you find her,” sê die manstem. “She can’t be far. We will go search the park.” “Good luck.” “O.K.” En dan hoor sy die vrou wegstap, oomblikke later die deur wat toegemaak word en dan weet sy dit gaan veilig wees.
* * *
Melinda Geyser sluk ’n halwe glas water af en hou dit dan in haar hand wat op die leerbank se leuning lê. “Ons het op Bethlehem in die Oos-Vrystaat vir ’n troue gaan speel. Ná die onthaal het ons in die chalets by Loch Athlone gaan oorslaap. Die plek was leeg. Ons het buite ’n vuur gemaak en in die donker gesit en drink en gesels. Danny het gesê hy gaan slaap, hy was moeg en gedrink en gerook. Ons was al drie jaar getroud, en dit het nie meer goed gegaan nie. Toe bly ons sit, ek en die ander drie. Hulle was jonk, soos ek, in ons twintigs. Die baskitaarspeler het ’n videokamera gehad; hy’t dit die vorige week gekry. Hy’t ons afgeneem. Dit was eers onskuldig, ons was laf, ons het gemaak of ons beroemd is en onderhoude toestaan aan die SAUK. Ons het aanhou met drink. Te veel. Ek dink die aard van die groep was een van die redes hoekom dit gebeur het – Danny was die leier; ons was die vier werknemers, die onderdane. Ons het goed vir die videokamera begin sê oor Danny, ons het hom nageaap en gespot, ons het geweet as hy dit
moes sien, sou dit hom kwaad gemaak het, want Danny het ’n humeur, veral die oggend ná ’n dronk aand. Maar die risiko was wat dit so lekker gemaak het: Hy was naby, hy’t geslaap, en ons sit daar en ons tart hom op video, daar is … bewyse van wat ons doen. Vir altyd, soort van.” “Die kitaarspeler het my eerste gesoen. Hy het gesê hy weet wat vir Danny heeltemal mal sal maak, toe loop hy oor en hy soen my op die mond. Dit was nie ’n groot sprong van daar af nie. Nie in die staat waarin ons was nie. Ek hoef jou nie alles te vertel nie. Die video wys hoe ek later hulle broeke ooprits en hulle suig. Dit wys hoe hulle my klere uittrek, met my hulp, hoe elkeen ’n tepel lek. Dit wys hoe twee van hulle met my seks het, die een voor, die een agter. Dit wys hoe ek dit geniet. Daar was ’n nabyskoot van my gesig en jy kan duidelik sien … Jy kan my hoor ook …” Sy kyk vir Dekker, daar is ’n krag in haar. Sy sê: “Ek sal altyd wonder hoeveel die teenwoordigheid van die kamera tot die intensiteit van daardie ervaring bygedra het.” Dan is sy vir ’n oomblik stil voor sy haar oë laat sak. “Ek was nooit spyt daaroor nie. Tot gister. Tot ek besef het my sondes kan vir Jos inhaal. Dit sal vir hom so seer wees om dit alles te weet. Hy het ’n ander ek nodig.” As sy stil raak, sê Dekker: “Dit was op die DVD?” Sy knik. “Barnard wou jou afpers,” met sekerheid van begrip. “Nee. Hy was die een wat afgepers is. Toe ek die DVD vir hom terugskuif en sê ek weet wat dit is, toe sê hy hy moes sestigduisend daarvoor betaal. Hy het gesê dit het ’n week gelede met geregistreerde pos gekom, met ’n nota wat sê: Kyk as jy alleen is. Of Melinda se loopbaan is dood. Die oproep het drie dae later gekom, van ’n man wat vyftigduisend wou hê of hy sit dit op die Internet. Toe vra ek vir Adam hoekom hy sestigduisend betaal het. Toe sê hy die ander tienduisend was om seker te maak dit was die enigste kopie.” “Hoe het hy dit reggekry?” “Dis wat ek ook wou geweet het. Hy’t gesê dit was nie die eerste keer dat hy een van sy kunstenaars se belange moes beskerm nie. Hy het mense wat daarmee help, ’n agentskap. Hulle het die geldoorplasing se spoor gevolg, tot hulle die man gekry het.”
“Die baskitaarspeler?” “Nee. Danny Vlok.” “Jou eks?” “Jy moet erken dat dit in ’n sekere sin geregtigheid is.” “Hoe het hulle seker gemaak daar is nie ’n kopie nie?” “Ek weet nie. Ek het vir Danny probeer bel toe ek hier uit is. Iemand by sy winkeltjie het gesê hy is in die hospitaal. Hy is Sondagaand in sy woonstel aangerand.” Dekker verteer dit. Dié ding word nou groot. En ingewikkeld. “Maar hoekom het Barnard dit vir jou vertel as alles afgehandel is?” “Ek dink die video het vir Adam sterk gestimuleer.” “So hy het jou afgepers?” “Ek dink dit was meer ’n kwessie dat hy ’n geleentheid gesien het.” “O?” “Hy het vir my gesê ek het niks om my oor te bekommer nie. Ek het vir hom dankie gesê. Toe glimlag hy net en druk die DVD-skyf in die speler in. Ek kon opgestaan het. Maar ek wou dit weer sien. Een laaste keer. Ons het saam daarna sit en kyk. En toe dit klaar was, toe vra hy my of hy my kan soen. Toe sê ek ja.” Sy sien Dekker se kyk en sy sê: “Want ek was baie dankbaar teenoor Adam. Vir sy diskresie. Sy moeite, sy onkoste. En om die video weer te sien … jouself. Jonk … so … lus …” Dekker frons steeds. “Jy wonder hoe ’n bekeerde vrou so iets kan doen. Jy sien, meneer Dekker, ek glo nie in ’n verdoemende God nie. Ek dink dit was biskop Tutu wat gesê het ‘God has a soft spot for sinners. His standards are quite low’. Hy sit nie daar bo met sy vuiste gebal, net reg om ons te straf vir elke ding nie. Ek dink Hy is ’n
God van liefde, wat weet ons is elkeen soos ons is, net soos Hy ons gemaak het, met ons swakhede en al. Hy verstaan, Hy weet dit bring ons eindelik nader aan Hom, die wete dat ons swak is. Hy wil net hê ons moet bely.” Dekker is woordeloos. Hulle sit in stilte, net die gesis van die gaslamp. Sy laat haar hande vir die eerste keer op haar skoot bymekaar- kom. “Jy sal wil weet hoekom ek vir Jos gesê het. En dit is die een ding wat ek nie heeltemal kan verduidelik nie. Ek het hier uitgeloop met die DVD in my handsak. Ek het geweet hulle weet, Willie, Wouter …” “Wouter?” “Die finansiële bestuurder. Wouter Steenkamp. Sy kantoor is langs Adam s’n. Ek het geweet hulle sou my gehoor het, want ek is luidrugtig as dit by seks kom. En Adam Barnard het sy … talente gehad. Natasha se stem, toe ek verby haar loop … Miskien was sy in die gang toe ons besig was. Sy’t iets geweet. Maar ek is hier uit en ek het in my motor gaan sit en die skyf uitgehaal en ek wou dit breek. Ek het nie geweet hoe moeilik dit is nie. Dit buig, maar dit breek moeilik, net soos ’n mens se gees. Ek het ’n haartangetjie uit my handsak gehaal en ek het dit daarmee gekrap. Dit was al wat ek kon kry. Ek het dit gekrap tot ek seker was dit sal nooit weer werk nie. Toe bel ek na Danny se winkel toe en toe ry ek huis toe en gaan gooi die DVD in die asblik en loop in die sitkamer in en daar sit liewe, goeie Jos, wat my so onvoorwaardelik liefhet. Hy het sy arms om my gesit, soos hy altyd maak. En al waaraan ek kon dink, was dat hy die seks aan my sal ruik. Jos moes die spanning gevoel het, hy is ’n sensitiewe man, hy wonder voortdurend of hy goed genoeg is vir my. Dit was sy omgee wat my gevang het, daardie absolute, opregte omgee. Ek het op daardie oomblik die verskil gesien tussen sy beeld van my en wie ek régtig is. Dit was verpletterend, as jy my een teatrale woord sal vergewe. Op daardie oomblik het ek geglo hy het die reg om die waarheid te weet, maar dit wou nie uitkom nie. Miskien nog ou gewoontes; ons beskerm onsself tot op die laaste. Maar ek sal graag wil glo dat ek eintlik vir hom wou beskerm, want so moeilik as wat dit is om met myself saam te leef, dit sal vir Jos onmoontlik wees om van die volle waarheid te herstel.”
22
Toe Vusi Ndabeni oorkant Carlucci’s parkeer, is die polisiehelikopter net hier bo, die rotors se wap-wap oorverdowend. Hy sien Mbali Kaleni by ’n patrollievoertuig staan, radiomikrofoon in die hand, die draad wat kartelend deur die oop venster strek. Sy het ’n kaartboek van Kaapstad oopgeslaan op die enjinkap; haar ander hand moet die bladsye vashou. Vusi loop oor die straat na haar toe, hoor hoe sy hard roep: “This is the central point, where I stand. You must search from here. First, look at all the houses in this block. She wants to stay away from the street, so she might be in a backyard somewhere. Then you look at the parks, De Waal Park just down the road, there is also Leeuwenhof … two, three four blocks away, east. No, wait … West, can you see it?” Vusi gaan staan langs haar. Sy kyk net vinnig vir hom, probeer luister wat die helikoptervlieënier sê. “I can’t hear you,” roep sy in die mikrofoon. “Where do you want us to go after we check the parks?” “Search the area between this point and the city.” “Roger.” Die helikopter swaai noord, na De Waalpark se kant toe. Kaleni strek deur die venster en plaas die mikrofoon terug. Sy kom nie by nie, haar lyf is te kort en breed. Vusi maak vir haar die deur oop. Sy gee vir hom die mikrofoon, asof dit sy skuld is. Hy sit dit terug, maak die deur toe, die lawaai van die helikopter nou minder. “We will find her,” sê Kaleni. Forensies se wit bussie hou stil. Dik en Dun klim uit en kom met tassies aangestap.
“Where have you been?” vra Kaleni skerp.
* * *
Hy’s tweehonderd meter van die Riebeeckstraathoek af wanneer Bennie Griessel besef hy sal die motor hier iewers in Bree moet los en voetslaan na Alfredstraat, want om in dié verkeerschaos oor Buitengracht te kom gaan minstens veertig minute vat. Hy kry parkeerplek oorkant ’n fietswinkel en wonder of hy nie maar soggens sy bergfiets in die motor moet sit nie, want die kragonderbrekings is nou so gereeld soos die kanon op Seinheuwel. ’n Boetebessie kom na hom toe aangestap, vol amptelike doelgerigtheid, kaartjiemasjien in die hand. “Ek is SAPS,” sê Griessel en wys haar sy eieningskaart, haastig om weg te kom, die dringendheid van John Afrika se stem in sy kop. “Maak nie saak nie,” sê die boetebessie. “Hoe lank wil jy staan?” Miskien moet hy net loop. “Hoeveel is twee uur?” “Veertien rand.” “Jissis,” sê Griessel en grawe sy beursie uit, soek kleingeld, oorhandig dit, sluit die motor en drafstap tussen die stilstaande verkeer deur. Dis net vier blokke te voet; hy kan Prestwich vat en nog gouer daar wees. En hy kan intussen probeer uitvind wat aangaan. In die loop haal hy sy selfoon uit en bel vir Vusi. “Hallo, Bennie,” die geluid van die helikopter op die agtergrond. “Vusi, ek is op pad na die kommissaris toe; ek wil net weet wat gebeur. Waar is jy?” “By Carlucci’s.” “Is daar nuus?”
“Sy’s missing, Bennie, maar die helikopter soek en ons het nou nege voertuie, daar is nog op pad, maar die traffic jam …” “Ek weet. Het julle al met Metro gepraat?” “Ek het nog nie tyd gehad nie.” “Los dit vir my. Ons sal ’n rooster moet opstel, anders gaan hulle mekaar dupliseer, maar ek sal jou bel as ek klaar is by die kommissaris. Laat weet my as iets gebeur.” “Bennie, Organised Crime het foto’s van Demidov se mense. Ek wil hê die ou hier by die restaurant moet na hulle kyk.” Griessel huiwer. Hy het ses maande gelede ’n nes by die Georganiseerde Misdaadeenheid oopgekrap. Hulle sit steeds nie langs dieselfde vuur nie, al is daar ’n hele nuwe span mense en deel hy deesdae dieselfde gebou met hulle in Bellville-Suid. Maar Vusi se plan maak sin. “As jy dit kan laat werk, Vusi. Dit kan nie skade doen nie.”
* * *
In sy kantoor op die vierde verdieping van Alfredstraat 24 in Groenpunt hoor John Afrika weer die dringende, naderende voetstappe van die provinsiale kommissaris. Hy is besig om ’n venster oop te maak, want dit is warm sonder die lugversorger. Afrika sug. Nog moeilikheid. Hy wag staande vir sy baas. Die klein Xhosa klop nie hierdie keer nie; hy is te haastig, te bekommerd. “Hulle sê sy is bang vir die polisie,” sê hy, nog skaars by die deur in. Hy loop tot by die lessenaar, druk met sy hande op die kant van die blad soos ’n man wat skielik moet rus. “Kommissaris?” vra Afrika, want hy weet nie wat dit beteken nie.
“Die konsul-generaal sê Rachel Anderson het vir haar pa gesê sy kan nie na die polisie toe gaan nie.” “Sy kan nie na die polisie toe gaan nie?” “Die pa sê dit het geklink of sy nie die polisie vertrou nie.” “Bliksem,” sê John Afrika en gaan sit agter sy lessenaar. “My sentiments exactly,” sê die provinsiale kommissaris.
* * *
Buitengracht is ’n nagmerrie, die verkeer bankvas in al vyf bane, niks beweeg nie. Griessel dartel tussen die motors deur, dankbaar dat hy te voet is. Sy selfoon lui. Seker die kommissaris wat wil weet waar de fok hy is. Maar die skerm wys dis Dekker. “Fransman?” “Bennie, dis ’n soap opera,” sê Dekker en gee vir Griessel die hooftrekke van sy Melinda-ondervraging, die hele pad tot op die hoek van Prestwich en Alfred. “Fok,” sê Griessel eindelik. “Wat sê sy, waar was hulle gisteraand?” “By die kerk tot elfuur, The Tabernacle in Parklands, toe is hulle huis toe. Melinda het op die bank geslaap, Jos in die kamer, maar hulle was by die huis tot vanoggend toe. En hulle besit geen vuurwapen nie.” “Dis wat hy ook sê …” Geyser kan lieg oor die vuurwapen, maar hy het sedert laasnag tyd gehad om daarvan ontslae te raak. “Fransman, sê vir Jos jy wil hulle huis gaan deursoek …” “Ek het gevra dat hulle op die nasionale kyk. Daar’s geen wapen …” “Nee, ek dink nie ons moet die huis deursoek nie. Kyk net hoe hulle reageer. Gebruik die gewone lasbrief-storie …”
“Watter lasbrief-storie?” “Die een van ‘ons kan ’n lasbrief kry, maar as hulle toestemming gee, is dit nie nodig nie’.” “O.K. Maar die eks, Bennie, dit kon hy gewees het; dié ding is ’n fokken sirkus. Ek gaan nou vir Bloemfontein probeer bel, kyk of hulle iets kan uitvind. Ek gaan Jos en Melinda laat gaan …” “Jy kan. Of jy kan hulle in daardie vergadersaal sit. Laat hulle nog ’n bietjie sweet tot jy iets van Bloemfontein gehoor het … En praat met jou sexy girlfriend by ontvangs. Waar was Barnard gisteraand? Kry sy dagboek, deursoek sy kantoor, kyk na sy e-pos …” Dekker reageer eers nie, sê dan: “O.K.” Maar hy is nie gelukkig nie. “Ekskuus, Fransman, ek vat al weer oor.” “Ek probeer chill, Bennie. Ek probeer chill.”
* * *
Vusi Ndabeni sê oor die telefoon vir Vaughn Cupido: “Laat ek hoor wat hulle email address is,” en loop na die jong man in die voorskoot wat op die stoep sit, by sy personeel. “Do you have e-mail here? Our Organised Crime Unit will mail photos of people I want you to look at.” “We do. The address is info at Carlucci’s dot co-za. But it won’t help much.” “Why?” “There’s no electricity. The PC doesn’t work.” Vusi se skouers sak, maar hy sê vir Cupido: “Stuur solank, Vaughn, hier’s die adres …”
Vet inspekteur Mbali Kaleni kom staan langs hom en sê vir die jong man: “Are you sure about the Land Rover’s number?” “I’m pretty sure it was CA and there were a four, a one and a six.” “They say that there is no Land Rover Discovery with a CA, a four, one …” “It wasn’t a Discovery.” “It wasn’t?” “I told the guy it was a Defender. Long wheelbase. And new.” “Men,” sê Kaleni en skud haar kop. “What do you mean?” vra die jong man in die voorskoot. “Not you,” sê Kaleni en haal haar selfoon uit. “The fools I have to work with.” Sy bel Caledonplein se aanklagkantoor en hoor hoe dit lank lui voor iemand antwoord. Sy vra om met die konstabel te praat wat die aanvanklike registrasienommer-soektog gedoen het. “It wasn’t a Land Rover Discovery, it was a Defender. You have to search again.” “I can’t,” sê die konstabel. “Why not?” “The power is down.”
* * *
Bennie Griessel se asem jaag en hy sweet toe hy by John Afrika se kantoor instap – van die hitte buite, van die vier stelle trappe omdat die hysbakke nie sonder fokken elektrisiteit kan werk nie, en van die dringendheid in hom.
Die provinsiale kommissaris sit oorkant John Afrika. Al twee lyk ernstig. “Middag, kommissaris.” Griessel kyk na sy horlosie, sien dit is nog 25 minute voor twaalf; dit voel asof dit al drie-uur is. “Môre, kommissaris,” korrigeer hy homself. Die klein Xhosa staan op, baie ernstig, steek sy hand na Griessel uit en sê: “Baie geluk, kaptein Griessel.” Dit is te onverwags, Griessel skud sy hand, kyk verward na John Afrika wat vir hom knipoog en sê: “Baie geluk, Bennie.” “E …” sê Griessel en vee sweet van sy voorkop af. “E …” En dan: “Fokkit, kommissaris.” Die Xhosa lag en vat Bennie aan die skouer en sê: “Jy beter sit, kaptein, want ek vermoed jy gaan jou bevordering vandag verdien.”
* * *
In die tuin van die Victoriaanse huis, by die drie sportskoenspore in die sagte grond, hou Jimmy, die lang, maer witjas van Forensies, die plastieksakkie met die tandheelkundige steenpoeier oop en kyk hoe Arnold, die vette, die afgemete water versigtig daarin gooi. “Sy’s so vet, as sy haarself weeg, sê die skaal ‘word vervolg …’” sê Arnold. “He-he,” sê Jimmy. “Sy’s so vet, sy’t haar eie poskode,” sê Arnold. “Daar’s hy, skud hom.” “As sy net nie so fokken bossy was nie,” sê Jimmy, rits die sakkie toe en skud dit. “Ek meen, jy’s self nie skraal nie, maar jy’s ten minste nie ’n doos nie.” “En dit moet my nou goed laat voel?” “Ek sê maar net,” sê Jimmy en skud die sakkie met groot konsentrasie. “Wat ek wil weet, is wat de moer sy met dié spoorafdrukke wil maak. Hulle weet wie s’n
dit is. Sy pis teen die wind, dis al.” “Daai goed is reg. Brei hom.” Jimmy sit die sakkie tussen sy hande en brei die groen pasta. “Ek is nie naastenby so vet soos sy nie.” “Jy’s langer, dis die verskil,” sê Jimmy. “Kry die vorm reg.” Arnold neem die langwerpige vorm, verstel dit om oor die linkervoetspoor te pas en druk dit versigtig op die grond vas. Hy tel ’n botteltjie talkpoeier op en sprinkel dit oor die spoor. “Gooi,” sê hy. Jimmy maak die sakkie oop en hou dit in die middel van die vorm. Hy laat die pasta uitloop. “Ek het ’n stadige metabolisme; dis my probleem,” sê Arnold. “Maar sy’s ’n vreter; ek hoor dis KFC van die oggend tot die aand …”
* * *
Tien meter van waar Dik en Dun van Forensies by die voetspore kniel, agter die kantgordyn in die Victoriaanse huis, kan die ou man hulle nie hoor nie. Maar hy kan hulle sien. Net soos hy die meisie gesien het wat oor die heining gespring het, die Land Rover wat kort op haar hakke verbygery het, jong mans, soekend. En die konstabels wat later so vasberade in Bo-Oranje afgehardloop het, en die swart vrouespeurder, toe sy eers nadenkend by die wit houtheining gaan staan het, en later by die bedding ondersoek ingestel het. Hy weet na wie hulle soek. En hy weet waar sy skuil.
23
Kaptein Bennie fokken Griessel. Kan jy dit glo? Hy sit daar, die gloed van sy bevordering nog in hom, die begeerte om hier op te staan en na sy woonstel toe te ry en vir Carla te gaan skryf: My liewe kind, jou pa is vandag ’n kaptein, vanaand sal hy stap na waar Anna by ’n kersligtafel in Primi Piatti sit en hy sal afbuk en haar op die wang soen en sê: “Kaptein Bennie Griessel, bly te kenne,” en sy sal verras na hom opkyk en sê: “Bennie!” en hom op die bek soen. “Hoe’t Dekker die nuus gevat van Kaleni?” verbreek John Afrika sy fantasie. “Ek het vir hom gesê dit bly sy saak, kommissaris,” sê Griessel. “Hy’t dit aanvaar.” Afrika lyk skepties, maar knik net. “Het jy al vir haar laat weet?” Hy’t vergeet. Heeltemal. Hy sal sy gat in rat moet kry. “Ek het nog nie kans gehad nie.” “Julle weet wat Mbali beteken?” vra die provinsiale kommissaris. “Blom. Dit beteken blom in Zoeloe.” Afrika grynslag. “Sy praat vyf tale en sy’t ’n I.K. van honderd-sewe-en-dertig. Nie sleg vir ’n blom nie.” “Sy gaan nog eendag in my stoel sit,” sê die klein Xhosa. “Sy dink sy sit al klaar daar,” sê Afrika en dan lag die twee offisiere van kleur, sag en goedig. Griessel grinnik, nie seker of ’n kaptein mag saamlag nie. Die streekkommissaris raak skielik ernstig. “Bennie, daar’s ’n nuwe verwikkeling. Rachel Anderson se pa sê sy kan nie polisie toe gaan nie. Hy dink sy bedoel sy kan ons nie vertrou nie.”
“Sy kan ons nie vertrou nie?” sê Griessel en die twee kommissarisse knik in gelid en wag dat hy die raaisel vir hulle moet oplos. “Dis wat sy vir hom op die telefoon gesê het?” “Weer knik hulle. “Wag ’n bietjie,” sê hy en sit vooroor in die staalraam-staatsdienstoel met die grys kussings. “Ons kyk van die verkeerde kant af, kommissaris. Vusi het ’n teorie dat sy ’n dwelmmuil is, sy en die oorledene. En dit pas by ’n klomp goed – hoe hulle die land ingekom het, die klub, die Russe, die rugsak wat afgesny is, die hele jaagtog. Dis nie omdat sy nie die polisie vertrou nie; dit is omdat sy skuldig is. Sy kan nie by ’n stasie inloop en sê: ‘Help my, ek het ’n halfmiljoen se dwelms ingebring en toe vir Demidov verneuk’ nie.” Hy sien groot verligting op sy twee seniors se gesigte. Maar dan frons John Afrika. “Ons kan dit nie vir die konsul-generaal of vir haar pa sê nie. Nie voor ons bewyse het nie.” “Ons het haar pa belowe jy sal hom bel,” sê die provinsiale kommissaris en as Bennie nie opgewonde lyk nie, voeg hy “kaptein” nadruklik by. “Dadelik,” sê John Afrika. “Om hom gerus te stel,” sê die tenger Xhosa. “Dit sal baie druk afhaal.” “As hy weet ’n senior offisier is in beheer.” “Maar ons moenie oorhaastig wees met die dwelm-ding nie.” “Ek bring die nommer vir jou,” sê die provinsiale kommissaris en staan op. “Gebruik direkteur Arendse se kantoor,” sê John Afrika. “Hy’s met verlof.” Afrika kom ook regop. “Kom, ek gaan wys jou.” En dan gaan die krag aan met ’n siddering wat deur die hele gebou trek.
* * *
“Jy gaan hom nie arresteer nie?” vra Willie Mouton in ongeloof as die neonlig skielik bo sy kaal kop begin flikker en dan helder daarop weerkaats. “Die krag is terug,” sê Groenewald, die prokureur, asof dit ’n wonderwerk is. “Daar is nie op die oomblik gronde vir ’n arrestasie nie,” sê Dekker, wat by die deur staan. “Kan ek vir jou ’n paar vrae vra?” “Vir my?” Dekker loop na ’n stoel langs die prokureur. “Asseblief. Oor Adam Barnard. En die Geysers.” “O. Natuurlik. Sit, asseblief …” sê Mouton, nie met groot hartlikheid nie. Dekker sit. “Vanoggend, by Barnard se huis. Jy het gepraat van Adam se ‘dinge’, net voor mevrou Barnard …” Hy sien hoe Mouton na Groenewald kyk, asof vir goedkeuring. “Die koerante het al oor van die goed geskryf, Willie …” sê die prokureur stadig. Mouton maak keel skoon, vee vinnig met ’n palm oor die kaalgeskeerde kop. “Seksuele teistering,” sê hy versigtig. Dekker wag. “Ek dink nie dit het iets met sy dood te doene nie.” “Laat hulle daaroor besluit, Willie.” “Ja, Regardt, maar vyftien jaar terug kon ’n ou nog getraai het en ’n vrou nog ‘nee’ gesê het en dan was dit niks. Nou’s dit skielik teistering.” Weer die hand oor die kop, ’n gebaar van onsekerheid. Hy vat-vat aan die silwer oorbel en sit skielik vorentoe, ’n besluit geneem. “Almal weet Adam het ’n ding vir vroumense. Maar hulle los hom ook nie uit nie … hulle het dit kom soek, ek sê jou. Vyftien jaar terug, toe promote ek en ek reël toere vir bands, toe hoor ek al
hoe die ouens praat: Adam het vir Xandra by die huis, maar dis nie genoeg nie, hy soek nóg. Toe kom sê hy vir my ek moet AfriSound toe kom, volle vennoot, dan doen ek production en promotion. Toe sê hy vir my: ‘Willie, net sodat jy weet, ek hou van vrouens.’ Dit was nie asof hy skaam was daaroor nie. Maar teistering? Dis ’n pot kak. Natuurlik het hy getraai. Maar hy’t nooit vir ’n vrou gesê hy sal vir haar ’n kontrak gee as sy by hom slaap nie. Nooit. Hy’t na demoCD’s geluister, of hy het ’n show gaan kyk en dan het hy ja of nee gesê – ‘ons wil jou teken, jy’t potensiaal’, of ‘nee, jy is nie ’n fit vir ons nie’. Ek sê jou nou, daar’s van die sangeresse wat hom kom traai het, wat hier in sy kantoor ingeloop het, dis net tiete en bene en make-up en die ooghare fladder, en dan sê hy reguit: ‘Ek sal vir jou streep, maar ek gaan jou nie teken nie.’ ” “Ek sal vir jou streep,” proe Dekker aan die uitdrukking en hy dink die whiteys het hulle eie taal. “Jy weet wat ek bedoel.” “En die teistering?” “ ’n Jaar gelede, toe kry Nerina Stahl hierdie moerse offer van Center Stage af en toe is die koerante skielik vol van hoe Adam haar geteister het …” “Ek verstaan nie mooi nie.” “Nerina Stahl … die sangeres.” Dekker skud sy kop. Hy ken haar nie. “Jy luister seker Kfm – hulle mis die Afrikaanse boot heeltemal.” “5FM,” sê Dekker. Mouton knik, asof dit sin maak. “Adam het haar gemáák. Vier jaar terug, toe sing sy …” “Dis nou Nerina Stahl?” “Ja, sy’t vir McCully in ’n Abba tribute gesing, ’n maand in die Liberty in Johannesburg, ’n maand hier by die Pavilion, een van daardie shows wat kom en gaan. Toe gaan kyk Adam een aand. Mooi girl, oulike stemmetjie, jonk, sy was
toe 24, kom oorspronklik van Daniëlskuil af, of Kuruman … Maar as ons haar nie gemaak het nie, sou sy nou huise vir Pam Golding in Plattekloof verkoop het, ek sê jou. Adam het haar gevat vir ete en hy’t gesê sy kan ’n solo career hê, toe teken sy daardie selfde middag. Toe gee ons haar ’n boob job en Adam vertaal ’n klomp Duitse pop-goed en ons spandeer ’n bietjie aan ’n musiekvideo, toe’s die CD vyf-en-twintig-duisend, en twee jaar later toe’s sy op Huisgenoot-skouspel. Sy’t nog ’n jaar van ’n kontrak by ons oorgehad, toe offer Center Stage haar meer en toe gaan sy koerante toe met die fokken teistering-ding, want dit was die enigste manier hoe sy kon uitkom uit die kontrak uit. Toe’s daar skielik drie ander wat ook op die bandwagon spring, twee has-beens …” “Meneer Mouton …” Dekker maak ’n handgebaar wat sê hy moet stadig. “Center Stage?” “Dis ’n opposisie-label. Hulle het net Engelse acts gehad, toe kom die Afrikaanse golf en toe wil hulle ander labels se mense afrokkel. Nikki Kruger het oorgeloop, en die Bloedrivier Blues Band. En Ministerie van Musiek. Maar net Nerina het gekom met die teistering-ding.” “En toe is daar ander vroue wat ook na vore kom?” “Dit was vir die fokken publisiteit. Tanya Botha en Largo, hulle het al twee gebom en toe …” Hy sien Dekker frons. “Jy weet, gebom, sales figures wat ’n nose dive vat. Tanya het skielik diep geraak, haar eerste twee CD’s was covers, ons het vir haar ’n lekker klank ontwerp, maar toe wil sy skielik net haar eie goed sing, pyn en lyding, en niemand wou luister nie. En Largo … Ek weet nie, ek dink haar sellby date het net gekom.” “En toe beskuldig hulle ook vir Adam Barnard van teistering?” “Voorblad van Rapport. ‘Sangeresse span saam teen seks’, of so iets.” “Wat was die aard van Nerina Stahl se klag?” “ ’n Pot kak, ek sê jou mos. Toe’s dit skielik hoe Adam haar nooit wou uitlos nie, kon nie sy hande van haar afhou in sy kantoor nie, wou haar die hele tyd na sy huis toe laat kom, maar almal weet Xandra is siek by die huis en Adam het nie só ge-operate nie.”
“En toe?” “Toe sê ons vir Nerina sy kan maar gaan, toe’s die storm skielik verby. Tanya Botha en haar prokureur het hier kom sit, toe bied ons dertigduisend aan, toe’s sy ook happy. Ek sien sy bring nou ’n gospel-CD uit, by die een of ander nuwe label, almal sing nou Afrikaanse gospel, die mark kook.” “Wanneer laas was daar enige sprake van dié goed?” “Ek weet nie … elke keer dat die koerante fokkol het om oor te skryf. Regardt?” “Dis was die afgelope vyf, ses maande stil. Maar noudat Adam dood is …” “Kan jy dink hoe hulle te kere sal gaan. En niemand sal onthou hy’t Afrikaanse musiek se gat gered nie.” “Hoe so?” vra Dekker. “Niemand het meer gedoen vir die luisterliedjie as Adam Barnard nie. Behalwe miskien Anton Goosen …” “Wat is die ‘luisterliedjie’?” “Dit was voor jou tyd, vroeë tagtigs. Maar jy moet die hele scene van daardie jare verstaan. In die sewentigs, toe luister die Afrikaners net spookasem … Jim Reeves, Gé Korsten, Min Shaw, Groep Twee, Herbie en Spence … pop, sulke ‘ek lief jou, ek lief jou’ lyrics, apartheid se goue era, die volk wou nie dink nie, hulle wou net neurie. En toe kom ouens soos Anton Goosen en Koos du Plessis en hulle skryf original goed, great lyrics … In any case, hulle het destyds gepraat van die Musiek-en-Liriekbeweging; moenie my vra hoekom nie. Of net die luisterliedjie, want jy moet luister; jy kan nie net neurie nie. In elk geval, Adam was in sy twintigs, hy’t gewerk by De Vries & Kotzé, een van daardie moerse groot regsfirmas, maar hy was nie happy nie, en hy was mal oor musiek. Hy’t alles gaan luister, die pubs, die klein klubs, toe sien hy daar’s hierdie moerse klomp talent, maar die groot labels stel nie belang nie; hulle soek net die groot sterre. Toe ontdek hy vir Xandra; het jy geweet Alexa Barnard was gróót?” “Ek het gehoor …” “Hy’t sy job gelos en AfriSound begin, hy’t vir Xandra geteken, en ’n paar
ander. Hy’t die beste songs gaan haal en hy het hulle slim bemark, want hy’t geweet dis die toekoms. Hulle het O.K. gedoen, nie great nie, maar hulle het meer as survive, en toe kom Voëlvry en hy speel al twee kante van die draad …” “Voëlvry?” Mouton sug. “Het jy al van Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis gehoor?” “Ja.” “Hulle was deel daarvan. Dis waar ek begin het, ek het met van daai ouens getoer, ons het in kombi’s geslaap, ons het nie studio’s en labels gehad nie, ons het tapes uit die kombi se boot uit verkoop, hier laat tagtigs. Ek het alles gedoen, die kombi gedryf, die ouens nugter probeer hou, die kos gekoop, die stelle gebou, die amplifiers reggemaak, die plakkate gaan opsit, die kaartjies se geld gevat … Dis was wilde dae daardie, dit was great. Voëlvry was protesmusiek in Afrikaans, jy weet, teen apartheid, die studente het ingekoop soos jy nie kan glo nie, duisende, terwyl pa en ma in die suburbs na Bles Bridges se love ballads luister. Toe gebeur hierdie nuwe ding onder hulle neuse. Dis toe dat Adam my kom sien het; dis toe ons begin saamwerk het. Ons was die ouens wat Voëlvry legit gemaak het, wat vir hulle ’n label gegee het, wat hulle mainstream gevat het, met management en marketing en promotion. En toe raak die ding net al groter en kyk waar’s Afrikaanse musiek nou, die laaste vyf, ses jaar het dit ontplof, oor die taal nou bedreig is en al wat die koerante gaan skryf, is van teistering, ek fokken vra jou, of oor De la Rey, De la Rey, maar nie een van die mense gaan luister na die hele CD nie; het jy geweet die ander songs is alles oor suip en steek?” “Watter songs?” “Op die De la Rey-CD …” Dekker skud sy kop ingedagte, dink na voor hy vra: “Het Adam Barnard die afgelope week enigiets gesê oor ’n DVD?” “Watter DVD?” in opregte verbasing. “Enige DVD.” “Ons is besig met ’n paar DVD’s. Jos en Melinda s’n is geskeduleer vir die
KKNK, ’n live recording …” Dekker skud weer sy kop. “Het Barnard enigiets gesê van ’n DVD wat hy deur die pos ontvang het?” “Hoekom sal iemand vir hom ’n DVD stuur? Produksie en promosie is my werk. As hy iets gekry het, sou hy dit vir my gegee het.” “Daar is ’n moontlikheid dat hy ’n posstuk ontvang het met ’n DVD daarin. Verlede week. Het hy iets gesê?” “Nie vir my nie. Watse DVD was dit? Wie’t gesê hy het dit gekry?” “Het hy sy eie pos oopgemaak?” “Adam? Ja, wie anders?” “Hy’t nie ’n sekretaresse nie?” “Natasha is ons al twee se P.A., maar sy sal nie ons pos oopmaak nie. Ons doen in elk geval omtrent alles elektronies. As daar ’n DVD was, sou hy dit vir my gebring het. Wat was op die DVD?” “Ek kan nie op die oomblik besonderhede verskaf nie, meneer Mouton. Met wie kan ek praat oor betalings wat meneer Barnard die afgelope week of wat sou gedoen het?” “Betalings? Hoekom wil jy dit weet?” “Willie …” sê Groenewald. “Dis my maatskappy, Regardt, ek het ’n reg om te weet. Wat loop die Geysers nou en vertel?” “Willie, sy ondersoek is sub judice. Dit beteken hy hoef nie …” “Ek weet wat dit beteken, Regardt, maar dis my maatskappy noudat Adam nie meer met ons is nie.” “Meneer Mouton, jy is ongelukkig verplig om my vrae te beantwoord.”
Die adamsappel beweeg; die hand vat-vat aan die silwer oorbel. “Wat was jou vraag?” “Met wie kan ek praat oor betalings wat meneer Barnard die afgelope week gedoen het?” “Aan wie?” “Aan enigiemand.” “Adam was in beheer van finansies en . Hy het self tjeks geteken. Maar Wouter sal weet. Die rekenmeester.” “Waar kry ek vir Wouter?” “Hy sit hier langsaan.” “Dankie,” sê Dekker en staan op. “Ek sal ook meneer Barnard se kantoor moet deursoek. Was daar sedert gisteraand iemand in sy kantoor?” “Vra vir Natasha, ek weet nie.” Dekker loop deur toe. “Hulle lieg,” sê Mouton. “Die Geysers lieg om hulle eie gatte te red. Betalings? Watse betalings?” “Willie …” sê Groenewald.
* * * Griessel sit in die afwesige direkteur se kantoor, die groot stoel gemaklik, die lessenaar breed en skoon. Hy kyk na die wit vel papier wat die provinsiale kommissaris vir hom gegee het. Daarop staan Bill Anderson. En die nommer, met buitelandse kodes. Hy wil nie die oproep maak nie. Hy is nie goed met dié soort ding nie. Hy sal te hard probeer om gerusstellend te wees, hy sal valse hoop bring, want hy weet hoe dié man moet voel. As Carla hom uit Londen moes bel en sê daar’s mense
wat haar wil doodmaak, mense wat klaar gemoor het. Hy sal van sy sinne af gaan, hy sal op die eerste fokken vliegtuig klim. Maar dit is nie al wat hom pla nie. Vandat John Afrika hier uitgestap en die deur agter hom toegetrek het, het Griessel gewonder oor die ander moontlikheid: Sê nou maar Rachel Anderson is nie ’n dwelmmuil nie? Gennady Demidov se reputasie lê wyd. Net soos die web van sy bedrywighede. Die gerugte sê hy’t stadsraadslede in sy sak. En SAPS-lede. Minstens ’n paar uniforms. Daar was ’n klag van aanranding, ’n hele ding oor mense wat met bofbalkolwe geslaan is omdat hulle nie eiendom aan Demidov wou verkoop nie – eiendom wat die stadsraad weer sou opkoop om die nuwe Wêreldbekersokkerstadion te bou. En toe verdwyn die dossier by die Seepunt-stasie en die getuies raak stil. En die Georganiseerde Misdaadeenheid is ses maande gelede met groot fanfare skoongemaak, nuwe bevelvoerder, nuwe speurders, ’n hele paar van Gauteng en KwaZulu, maar ses maande is ’n lang tyd. En die Rus se sakke is diep. Dit is nie ’n teorie waarvoor hy baie gewild gaan wees by twee kommissarisse nie. Griessel sug en lig die gehoorbuis, hoor die skakeltoon. “This is Captain Bennie Griessel,” sal hy sê. En dit sal minstens fokken lekker wees.
24
Vusi Ndabeni en Mbali Kaleni staan saam met die jong man in die voorskoot by die rekenaar in ’n klein hokkie van ’n kantoor by Car-lucci’s. Hulle kyk hoe die e-pos stadig aflaai. “Don’t you have ADSL?” vra Kaleni, asof dit ’n sonde is. “We don’t need it,” sê die jong man. Vusi wonder of hy veronderstel is om te weet wat ADSL is, maar hy word gered deur ’n selfoon wat lui: Kaleni s’n. “Yes?” antwoord sy skerp en gesteurd. Sy luister, lank. “Hold on.” Sy haal haar groot swart handsak van haar skouer af, druk haar hand in die dieptes in en kom met ’n swart gebinde notaboek-en-pen-stel te voorskyn. Sy maak dit plegtig oop, plaas dit op die tafel, knip die pen tot gereedheid en sê: “O.K. Shoot.” Dan: “I mean, give it to me.” Sy skryf, sê: “I’ve got it,” en beëindig die oproep. “Vusi, I am going to Parklands. They have a hit on the registration number.” “The Land Rover?” “Yes. A Mr J.M. de Klerk of Atlantic Breeze 24 in Parklands ed a 2007 Land Rover Defender 110 Hard Top in September. Registration number CA 416 7889. And he was born in 1985. A young guy.” “Not a Russian,” sê Vusi teleurgesteld. “Must have a rich dad,” sê die jong man met die voorskoot toe hy ’n e-pos oopmaak. “These Landies cost three hundred grand.” “Where does he work?” vra Vusi hoopvol.
“Same address. He works from home.”
* * *
Griessel hoor die telefoon lui op ’n ander kontinent, glashelder, en wonder hoe laat dit nou in Wes-Lafayette, Indiana, is. “Anderson,” sê die stem aan die ander kant. “Mr Anderson, my name is Bennie Griessel …” Griessel is bewus van sy Afrikaanse aksent, en vir ’n breukdeel van ’n sekonde kom lê die logiese volgende sin op sy tong: “… and I’m an alcoholic.” Hy sluk dit weg en sê: “I am a captain with the South African Police Services, and I’m in charge of the search for your daughter. I am very sorry for the circumstances, but I can tell you we are doing our absolute best to find her and protect her.” “Thank you, Captain, first of all, for taking the time to call. Is there any news?” Die stem is hoflik en Amerikaans, sodat dit vir Griessel onwerklik voel, soos ’n TV-drama. “We have a police helicopter searching the area where she was last seen, and we have more than ten patrol units looking for her in the streets, with more coming. But so far, we have not located her.” Stilte oor die foon, nie eens die gewone statika van ’n plaaslike oproep nie. “Captain, this is a difficult thing for me to ask, but when Rachel spoke to me over the telephone, she said that she could not go to the police … I hope you understand, as a parent, I am very concerned. Do you know why she said this?” Griessel haal diep asem. Dit is die vraag waarvoor hy bang was. “Mr Anderson, we have been thinking about this … matter …” Dis nie die regte woord nie. “… this question, I mean. It could mean different things, and I am also investigating all the possibilities.” Maar dit voel nie na genoeg nie. “I want to tell you, I have a daughter the same age as Rachel. My daughter is in London at the moment. I know how you feel, Mr Anderson. I know this must be very … difficult for you.
Our children are all we have,” en hy weet dit klink krom, nie reg nie. “Yes, Captain, that is exactly what I have been thinking these past few hours … That is why I am so concerned. Tell me, Captain – can I trust you?” “Yes, Mr Anderson. You can trust me.” “Then I will do that. I will trust you with my daugher’s life.” Moet dit nie sê nie, dink Griessel. Hy moet haar eers kry. “I will do everything I possibly can,” sê hy. “Is there anything we can do from here. I … anything …? “I am going to give you my cellphone number, Mr Anderson. You can call me any time you like. If Rachel calls you again, please give her my number, and tell her I will come to her, just me, if she is worried … And I promise you, I will call you if there is any news.” “We were thinking … We want to fly out there …” Hy weet nie wat om daarop te sê nie. “I … You can, of course … Let me find her, Mr Anderson. Let me find her first.” “Will you, Captain?” ’n Desperate noot in sy stem, ’n uitreik na ’n reddingsboei. “I will not rest until I have.”
* * *
Bill Anderson sit die telefoon stadig neer en sak terug in sy stoel. Hy sit sy hande voor sy gesig. Sy vrou staan langs hom, met haar hand om sy skouer. “You can cry,” sê sy vir hom, ’n skaars hoorbare fluistering. Hy antwoord haar nie.
“I will be strong now, so you can cry.” Hy laat sy hande stadig sak. Hy kyk na die boeke op die lang rakke voor hom. So baie kennis, dink hy. En dit alles help hom niks. Hy laat sy kop sak. Sy skouers ruk. “I heard him,” sê Jess Anderson. “And he will find her. I could hear that in his voice.”
* * *
Kaptein Bennie Griessel sit met sy elmboë op die direkteur se lessenaar, sy ken op sy hande. Hy wou dit nie sê nie. Hy wou nie beloftes maak nie. Hy moes gebly het by: “I will do everything I possibly can.” Of hy moes gesê het: “In die omstandighede wil ek geen voorspellings waag nie.” Maar Rachel Anderson se pa het by hom gepleit. “Will you, Captain?” En toe sê hy hy sal nie rus voor hy haar gekry het nie. Waar de fok begin hy? Hy laat sy arms sak, sukkel om te konsentreer, te veel dinge aan die gang. Die helikopter en die patrollies gaan haar nie opspoor nie, want sy kruip weg, bang vir die polisie. En hy weet nie hoekom nie. Die oplossing is om uit te vind wie haar jag. Vusi se plan begin al hoe beter lyk. Hy sal moet hoor hoe dit vorder. Griessel staan op en reik na sy selfoon. Maar dan lui dit hard in die stil kantoor en hy skrik. “Griessel.”
“Dit is inspekteur Mbali Kaleni van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Bennie,” haar Zoeloe-aksent duidelik, maar elke Afrikaanse woord met sorg gevorm. “Ons het ’n Land Rover Defender gekry wat by die nommer pas. Dit behoort aan ’n man in Parklands, ’n meneer J.M. de Klerk. Ek is op pad.” “Dit is baie goeie werk, maar die kommissaris het gevra of jy met ’n ander saak sal help. Fransman Dekker is besig met ’n ondersoek …” “Fransman Dekker?” Griessel ignoreer die afkeer in haar stemtoon. “Kan ek sy nommer vir jou gee? Hy is in die stad …” “Ek het sy nommer.” “Bel hom, asseblief.” “I don’t like it,” sê die blom. “Maar ek sal hom bel.”
* * *
“Ons het op 11 Januarie ’n bedrag van vyftigduisend rand elektronies na ’n ABSA-rekening oorgeplaas, volgens Adam se instruksies,” sê AfriSound se rekenmeester, Wouter Steenkamp, met gemoduleerde presisie. Hy sit gemaklik agter ’n groot, plat rekenaarskerm, sy elmboë op die lessenaar, sy vingers bou ’n kerk voor sy bors. Hy is kort, vroeg dertigs, hoekige gesig, swaar wenkbroue. Hy doen duidelik moeite met sy voorkoms – die dikraambril en kort hare ewe modieus, die swart stoppelbaard ’n doelbewuste, konstante twee dae oud, ligblou sporthemp met dun, wit dwarsstrepe, donker borshare wat net-net sigbaar is by die oopnekkraag. Bonkige sporthorlosie, arms bruingebrand. Nie ’n tekort aan selfvertroue nie. “Aan wie?” vra Dekker, in ’n stoel oorkant. Steenkamp raadpleeg sy rekenaarskerm sonder om sy vingerstapel af te breek.
“Volgens Adam se nota was die rekeninghouer ‘Bluegrass’. Die banktakkode was die ABSA-tak in Bloemfontein-middestad. Die transaksie was suksesvol.” “Het meneer Barnard vir jou gesê waarvoor die betaling was?” “Sy e-pos het gevra dat ek dit as ‘diverse uitgawes’ moet aanteken.” “Dis al?” “Dis al.” “Daar was ook ’n betaling van tienduisend?” “Op die kop?” Steenkamp se oë soek teen die sigblad se tabelle op die rekenaarskerm. “So verstaan ek.” “In die afgelope week?” “Ja.” “Nie op my rekords nie.” Dekker leun vooroor. “Meneer Steenkamp …” “Wouter, asseblief.” “Volgens my inligting sou Adam Barnard ’n agentskap gebruik het om te bepaal wie agter die Bluegrass-rekening was. Teen ’n betaling van tienduisend rand.” “Aaa …” sê Steenkamp, kom orent, strek na ’n netjiese inmandjie, lig dokumente op en trek een uit. “Tienduisend, op die kop,” sê hy en hou dit na Dekker toe uit. “Jack Fischer en Genote.” Dekker ken die maatskappy – voormalige senior, wit SAPS-offisiere wat vyf, ses jaar gelede almal vet pakkette gevat het en hulle eie privaat ondersoekfirma begin het. Hy neem die dokument, kyk daarna. ’n Rekening. Kliënt: AfriSound. Kliëntekontak: Mnr. A. Barnard. En onder Item en Koste staan daar: istratiewe navrae, R4 500.
Persoonlike onderhoud, R5 500. “Persoonlike onderhoud?” sê hy hardop. Steenkamp haal net sy skouers op. “Is dit Adam Barnard se handtekening hierdie?” “Dit is. Ek betaal net as hy of Willie geteken het.” “So jy weet nie waarvoor die rekening was nie?” “Nee. Adam het glad nie met my daaroor gekommunikeer nie. Hy het dit in sy uit-mandjie gesit en Natasha het dit hier kom insit. As hy dit geteken het …” “Gebruik julle dikwels vir Jack Fischer?” “Nou en dan?” “Jy weet hulle is privaat speurders?” “Inspekteur, die musiekbedryf is nie altyd maanskyn en rose nie … Maar Adam het gewoonlik dié sake gehanteer.” “Sal Willie Mouton weet?” “Jy sal hom moet vra.” “Ek sal dié rekening moet hou.” “Kan ek net eers ’n afskrif maak?” “Asseblief.”
* * *
Inspekteur Vusi Ndabeni het nog nooit in ’n helikopter gevlieg nie.
Die vlieënier gee vir hom ’n kopstuk aan oor sy skouer, iemand maak die deur toe, die enjin maak ’n magtige lawaai, die rotors versnel en dan lig hulle op, en sy maag draai. Hy sit die oorfone met bewende hande oor sy kop en kyk hoe De Waalpark skielik klein word hier onder hom. Dié goed val partykeer uit die lug uit, dink hy. En ’n mens moet nie afkyk nie, het iemand eenkeer vir hom gesê, maar die stad is meteens hier onder, die parlement, die Kasteel, die treinspore stasie toe in netjiese gelid, die hawe, die see, verblindend soos die son daarop weerkaats en Vusi haal sy donkerbril uit sy baadjiesak, sit dit op en sê: “Weet Table View ons kom?” en hy kyk uit Robbeneiland toe, in absolute verwondering. “Jy moet die mikrofoon draai – dis te ver van jou mond af,” sê die medevlieënier en beduie wat hy moet doen. Vusi buig die mikrofoon sodat dit voor sy mond sit. “Weet Table View ons kom?” “Wil jy met hulle praat?” vra die vlieënier. “Asseblief. Ons gaan patrollievoertuie nodig hê.” “Kom ek kry hulle vir jou.” En dan, met flonkerende Tafelbaai links van hom en die industrieë van Paardeneiland uitgestrek aan sy regterkant, praat inspekteur Vusumuzi Ndabeni met die SB van Table View oor ’n helikopter se radio en as hy klaar is, dink hy: Wat sal my ma sê as sy my nou kan sien?
25
Bennie Griessel draf weer oor Buitengracht, die verkeersknoop verby asof dit nooit gebeur het nie, sy kop by die voortvlugtige Rachel Anderson. Waarheen is sy op pad? Die enigste moontlikheid is die Cat & Moose Youth Hostel; dit is waar haar bagasie is, en haar vriend, Oliver Sands. Waarheen anders kan sy gaan? Hy bel Caledonplein toe, vra vir die radiokamer om ’n eenheid Langstraat toe te stuur. “Maar hulle moet nie voor die Cat & Moose parkeer nie. Laat hulle binne wag. As sy kom, moet sy hulle nie kan sien nie.” Dis al wat hy kan doen. Die ooggetuie by Carlucci’s het, volgens Vusi, na Georganiseerde Misdaad se steelfoto’s van Demidov se soldate gekyk en sy kop geskud en gesê nee, dit was nie een van hulle nie. Wat eintlik fokkol beteken, want Georganiseerd het moontlik nie al die foto’s gestuur nie. Of hulle foto’s is oud. Of hulle het nie foto’s van al Demidov se mense nie. Hy of Vusi sal weer na die Van Hunks toe moet gaan. Maar laat hulle maar eers kyk of die plek in Table View iets oplewer. En hy moet die hele soektog begin rigting gee, hy sal Caledonplein as basis moet gebruik, dis sentraal, dis waar die radioverbinding met die patrollies is. Hy draf die laaste tweehonderd meter na sy kar toe, bewus van die hitte wat nou soos ’n kombers oor die stad hang.
* * *
“Ek weet nie waarvoor dit was nie,” sê Willie Mouton vir Dekker en gee die
Jack Fischer-rekening terug oor die lessenaar. “En ek dink nie hulle sal vir jou sê nie.” “O?” “Dis sensitief. Client privilege.” “Wat?” “Nee, Willie,” sê Groenewald, die prokureur. “Natuurlik is dit. Hulle waarborg vertroulikheid. Dis hoekom ons hulle gebruik.” “Privilegie geld net vir dokters, sielkundiges en regsgeleerdes, Willie. As die polisie ’n lasbrief het, kan hulle die inligting kry.” “Nou wat help hulle waarborg dan?” Die adamsappel spring. “Is daar iemand spesifieks met wie julle saamwerk by Jack Fischer?” vra Dekker. “Ons werk net met Jack self. Maar jy krap op die verkeerde plek, ek sê jou.”
* * *
Rachel Anderson kan nie meer die helikopter hoor nie. Die stilte is eers onheilspellend, dan, stelselmatig, gerusstellend. Ondanks haar spore in die bedding, ten spyte daarvan dat ’n swart polisievrou net twee tree van haar skuilplek was, het sy hulle ontglip. Sy het besluit: Sy sal hier skuil tot dit donker word. Sy kyk na haar polshorlosie. Dit is elf minute voor twaalf. Nog agt uur voor die son sak. ’n Lang tyd. Maar laat hulle haar op ander plekke gaan soek, laat hulle van hierdie tuin vergeet.
Die pyn van die skrape en kneuse is dof in haar lyf. Sy sal haarself gemaklik moet maak as sy só lank hier gaan lê. Sy sit stadig regop, druk die digte doringtakke versigtig en stadig eenkant toe. Sy wil nie ’n geluid maak, ’n beweging veroorsaak nie, sy weet nie of daar nog oë op dié plante is nie. Die rugsak sal moet af. Sy kan dit as ’n kussing gebruik. Sy maak die knippe los, trek die bande oor haar skouers, laat die rugsak sak. Dit haak aan die dorings en takke, dit is agter haar rug, ongemaklik. Sy wikkel dit sorgsaam los, tot op die grond, draai stadig op haar rug, laat haar kop teruglê op die sak. Die grond is nie té ongemaklik onder haar nie. Die digte koelte sal haar beskerm teen dehidrasie. Sy weet haar bloedsuiker is laag, maar sy sal oorleef, tot die nag kom. Dan sal sy ’n telefoon kry, iewers sal iemand haar laat bel, hulle moet, sy sal smeek. En vir haar pa sê waar sy is. Sy haal diep asem en kyk op, deur die digte blaremassa, na waar sy stukkies son kan sien. Maak haar oë toe. En dan hoor sy die voordeur van die huis oopgaan.
* * *
Barry kom van die stad se kant af in sy Toyota-bakkie aangery. Bo-Oranje is nou stil, die polisievoertuie en uniforms weg, net ’n wit mikrobussie met ’n SAPSkenteken wat nog bo op die hoek staan. Hy wonder of dit die moeite werd is om die Victoriaanse huis dop te hou. Hy soek na die inrit wat hy vroeër gesien het, draai daarin op, ry tot agter, teen die motorhuis se toe deur. Hy neem die verkyker wat langs hom op die verslete bekleedsel lê en klim uit. Hy besef hy kan nie die huis sien nie; die muur links van hom is te hoog.
Hy klim op die bak van die Toyota, leun terug teen die kajuit, sit die verkyker voor sy oë. Dit is skaars meer as honderd meter van die Victoriaanse huis af. Hy laat die verkyker se lense daaroor loop. Doodstil. Hy kyk na die tuin. Terug na die huis. Mors van tyd. Die voordeur daar anderkant gaan oop. ’n Man verskyn. Hy fokus, kyk. ’n Ou man staan by die voordeur. Doodstil.
* * *
Jos en Melinda Geyser sit teenaan mekaar by die groot ovaaltafel van die konferensiekamer toe Dekker die deur oopmaak. Hulle kyk met verwagting na hom, maar sê niks voordat hy gaan sit het nie – een stoel weg van Jos af. “Ek en inspekteur Griessel glo julle is nie in hierdie stadium verdagtes in die saak nie …” “In hierdie stadium?” vra Melinda. “Mevrou, die ondersoek het nou net begin. Ons …” “Ek het dit nie gedoen nie,” sê Jos beslis. “Nou help ons dan om julle van ons lysie af te haal.” “Wie is nog op die lysie?” vra Melinda. Dekker wil haar stilmaak. “Ek probeer ’n posstuk se spoor volg.” Hy sien die skrik op haar gesig. “Watse posstuk?” vra Jos.
“Ek kan nie vir jou sê nie, meneer Geyser, maar ek wil weer vra: Help ons.” “Hoe?” “Gee vir ons toestemming om julle huis te deursoek, sodat ons kan seker maak daar’s niks wat julle met Barnard se dood verbind nie.” “Soos wat?” “ ’n Vuurwapen. Julle kan weier, en dan moet ons eers ’n lasbrief kry. Maar as julle toestemming gee …” Jos kyk na Melinda. Sy knik. “Gaan soek. Daar’s niks.” Dekker kyk stip na haar. Hy sien net die beslistheid. “Wag net hier, asseblief. Ek kom so gou moontlik.”
* * *
Mbali Kaleni loop by die grondvlak-dubbeldeur van AfriSound in en vier wit mense staan voor die swart ontvangsdame, besig met ’n geanimeerde gesprek. “Excuse me,” sê Kaleni en hou haar eieningskaart voor haar. “Police.” Al vier die mense draai om. Een het ’n kamera om die nek. “Is jy hier vir die Barnard-saak?” vra ’n jong vrou met baie kort blonde hare. “Is jy van die koerante?” vra Kaleni. “Die Burger,” sê die vrou. “Is dit waar dat Jos en Melinda Geyser hier binne ondervra word?” “Ek praat nie met die media nie,” en sy wend haar tot die swart ontvangsdame. “Inspector Dekker. Ngaphakathi?” “Yes, he is inside.”
“Asseblief,” roep ’n ander joernalis, “is die Geysers daar binne?” Kaleni skud net haar kop toe sy by die trappe opstap. “Izidingi-dwane.”
* * *
Rachel Anderson lê doodstil, maar sy hoor niks nie. Het hy net die voordeur oop- en toegemaak? Sy haal skaars asem. Dan is daar voetstappe, byna onhoorbaar, een, twee, drie, vier. En stilte. “The police woman told me you are an American girl,” sê dieselfde stem wat sy vroeër gehoor het. Sy skrik vir die skielikheid daarvan en dan verstyf sy weer as sy besef hy praat met háár. “I saw you when you jumped over the fence. I saw how scared you were. And then, the men in the Land Rover …” Groot deernis in die stemtoon, maar die verskrikking dat hy weet sy is daar, verlam haar. “The police woman told me those men are hunting you, that they want to hurt you.” Sy haal deur haar mond asem, geluidloos. “You must be very frightened, and very tired. I suppose you don’t know who to trust. I will leave the door unlocked. If you want to come inside, you are most welcome. I am alone. My wife died last year. There is food and drink inside, and you have my word that no-one will ever know you were here.” Emosie wel in haar op. Selfbejammering, dankbaarheid, die impuls om op te spring.
Nee! “I can help you.” Sy hoor sy voete skuifel. “I will be inside, and the door is unlocked.” Dit is vir ’n oomblik stil voor sy voetstappe weer opklink, weg van haar af. Die geluid van die deur wat oop- en toemaak. En dan donder ’n kanonskoot oor die stad uit en haar hele liggaam ruk van die skrik.
12:00 – 12:56
26
Fransman Dekker staan vir ’n oomblik stil in die gang van AfriSound, diep ingedagte met een arm gevou, een hand op die wang, staar na die eenvoudige patrone van die lang, handgeweefde dhurrie op die vloer, al die deure om hom toe: die Geysers agter hom in die konferensiesaal, Mouton en die prokureur in die kantoor links, die rekenmeester Wouter Steenkamp regs. Hy wil Bloemfontein bel en hoor wat hulle het, hy wil by Jack Fischer en Genote uitkom, hy moet Barnard se kantoor deursoek, hy moet met Natasha Abader praat oor Barnard se skedule gister. Hy weet nie waar om volgende te vat nie, en vir Jack Fischer en Natsha Abader het hy nie lus nie. Die speuragentskap is wit, almal oudpolisielede, wat in die koerante kraai as hulle die SAPS in die skande kan steek. En Natasha is ’n versoeking wat hy nie nodig het nie. Die storie van Adam Barnard, vroujagter, het hom in ’n spieël laat kyk, hy wil nie só wees nie, hy’t ’n goeie, mooi, slim vrou wat hom met haar lewe vertrou. En dan bulder die kanon die middaguur-skoot van Seinheuwel af en dit verbreek sy gedagtegang, laat hom opkyk, en hy sien vet inspekteur Mbali Kaleni se onweersgesig aangestap kom deur die ontvangsgebied, of sitkamergedeelte, of wat dié musiekmense dit ook al noem. Hy sê: “Fok,” sag en binnensmonds.
* * *
Bennie Griessel hoor die kanonskoot toe hy oor die drumpel van die Caledonplein-stasie loop en hy dink hoe dit hom elke keer laat skrik; hy sal nooit daaraan gewoond raak nie. Is dit wragtig nou eers twaalfuur? En dan sien hy die langhaar-fotograaf van binne aangedraf kom, oë soekend, pak foto’s in die hand.
“Soek jy vir Vuzi?” “Ja,” sê die fotograaf. “Hy’s net missing.” “Hy’s Table View toe. Jy’s fokken laat.” “Ons het ’n kragonderbreking gehad, hoe wil jy hê moet ek afdrukke maak as daar nie elektrisiteit is nie?” vra die fotograaf en hou die foto’s verergd na Bennie toe uit. Hy vat dit. “Dankie.” Die fotograaf loop, sonder ’n woord. Beswaard. Griessel kyk na die boonste afdruk. Rachel Anderson en Erin Russel, laggend en lewend. Vinkel en koljander, lig en donker. Russel het die gesig van ’n nimf gehad, die blonde hare kort gesny, die neusie klein en mooi, die oë groot en groen. Rachel Anderson is smeulend, haar skoonheid meer ingewikkeld, donker vlegsel oor die skouer, lang, reguit neus, breë mond, die lyn van haar kaak bekorend en vasberade. Maar kinders, nog, daar is ’n sorgeloosheid, ’n uitbundigheid aan hulle, al twee se oë blink van opwinding. En agter hulle, broeiend, is die enkele ander Afrika-bergbaken. Kilimandjaro. Dwelmmuile? Sy kop sê vir hom enigiets is moontlik, want hy het dit al soveel keer gesien. Hebsug, roekeloosheid, onverstandigheid. Misdadigheid ontsien geen voorkoms nie; dit is ’n kwessie van geneigdheid, agtergrond en geleentheid. Maar sy hart sê nee, nie dié twee nie.
* * *
Dit is ’n tweestryd in haar – die vrees om enigiemand te vertrou, teenoor die opregtheid van die man se stem. Sy kan nie hier bly nie, want iemand weet waar sy is; sy kan nie weer in die strate in nie, dan begin alles weer van voor af. Die
wete dat die deur oop is, net enkele treë van haar af, die moontlikheid van ’n veilige hawe, sy kan drink en eet, oorrompel haar, wen elke argument. Sy kom stadig orent, haar hart klop, die risiko is groot. Sy vat die rugsak, kruip op haar knieë, want hoër op is die plante te dig en krappend, tot aan die rand van die blaargordyn. ’n Klein stukkie geplaveide tuinpaadjie, ’n enkele trappie, die vlak stoep, ’n bruin deurmat wat sê WELCOME, en die houtdeur, die vernis vaal van ouderdom. Sy huiwer hier, een laaste oorweging van al die moontlikhede. Dan kruip sy die laaste sentimeters tot buite, haar oë knippend teen die helder son. Sy staan regop, haar bene styf van die lang lê. Sy loop met lang, vinnige tred, oor die paadjie, die trappie, die skadustukkie van die stoep. Sy sit haar hand op die deurhandvatsel, aangepakte koper, koel onder haar palm, sy trek haar asem diep in en maak dit oop.
* * *
Barry het nie die verkyker voor sy oë nie. Dit is te swaar om permanent daar te hou sonder ’n stut. Sy kop is enkele grade weggedraai, straatop, na Carlucci’s se kant toe. Hy sien die beweging aan sy periferie, meer as honderd meter van hom af, daar by die huis, en sy kop draai en sy oë trek skrefies. ’n Oomblik lank sien hy die figuur, klein oor die afstand; die blou van ’n kledingstuk is die skakering waarna hy soek. Hy pluk die verkyker op, kyk daardeur, verstel die fokuspunt effens. Niks. “Shit,” sê hy hardop. Hy hou die lense doodstil op die voordeur gerig; hy kan dit net gedeeltelik sien agter die barokwerk van die stoep, maar nou is dit verlate. Het hy hom misgis? Nee, hy hét dit gesien. Hy knip sy oë, konsentreer. Klein figuurtjie, blou …
“Shit,” sê hy weer, want dit kan sy verbeelding wees. Hy het daar bo teen die berg ’n paar keer gedink hy sien haar; dit het adrenalien in sy are gepomp, maar met die verstelling van fokus was dit meestal ’n vals alarm, die oëverblindery van hoop en verwagting. Hy laat die verkyker sak en kyk met die blote oog na die Victoriaanse huis; hy wil die dimensies van daardie moment weer regkry. Sy het dáár beweeg. Net daar, regterhand op die deurhandvatsel? Linkerhand agtertoe gestrek; dit het iets vasgehou. Die rugsak? Weer die lense voor sy oë. Van waar het sy gekom? Hy sien vir die eerste keer die moontlikheid van die bougainvilleas, ’n ou prieelstruktuur wat toegegroei het; hy bestudeer die digtheid daarvan. “Fuck me,” sê hy, die moontlikhede wat stadig in sy kop oopmaak, die pad wat sy kon gehardloop het, die vet polisievrou by die bedding links … Hy steek sy hand uit na die selfoon in sy denim se sak, haal dit uit sonder om sy oë van die huis te haal. Dit moet sy wees. Dit verklaar hoe sy so spoorloos kon verdwyn het. Hy’s amper doodseker. Amper. Negentig persent. Tagtig. As hy ’n fout maak … “Shit!”
* * *
Die huis is koel en stil. Sy staan in die voorportaal en hoor haar eie asemhaling. Daar is ’n klassieke houtmeubelstuk teen die muur, ’n groot ovaalspieël daarbo; langsaan is donkerhout-portretrame met bebaarde gesigte in swart-wit.
Loop een tree vorentoe. Die houtvloer kraak en sy staan stil. Links maak ’n groot vertrek oop tussen twee eenvoudige pilare; sy buig vorentoe om te kan inkyk. Groot, mooi houttafel, ’n skootrekenaar byna verlore tussen stapels boeke en dokumente. Volgepropte boekrakke teen die muur, drie groot vensters, die een wat uitkyk oor die straat en die heining waaroor sy gespring het. Ou, vertrapte Persiese tapyt op die vloer, rooi en blou en beige. “I’m in the kitchen.” Die man se stem, van reg voor af, paaiend, maar sy skrik in elk geval. Boeke. Soos haar ouers se huis. ’n Boekmens moet veilig wees. Sy loop verder in die rigting van die stem. Een van die rugsak se bande sleep fluisterend op die houtvloer. Deur ’n wit geverfde kosyn is die kombuis. Hy staan met sy rug na haar toe. Wit hemp, bruin langbroek, wit sportskoene; hy lyk soos ’n bejaarde monnik met die yl grys hare om die bles wat in die fluoorlig blink. Hy staan by ’n tafel en werk, draai stadig om, houtlepel in die hand. “I’m making an omelette. Would you like some?” Hy is ouer as wat sy gedink het, sy postuur effens krom, goedige gesig tussen diep plooie, los vel bo die rooi krawat om sy nek, vlekkies van bejaardheid aan sy kop en hande. Sy oë is waterig, vaagblou, ondeund, agter die te groot goueraambril. Hy sit die lepel neer langs ’n mengbak, vee sy hande aan ’n wit vadoek af en steek een uit na haar toe. “My name is Piet van der Lingen,” en hy glimlag met wit kuns-tande. “Pleased to meet you,” sê sy, ’n refleks, en skud sy hand. “Omelette? Perhaps some toast?” Hy tel weer die houtlepel op. “That would be wonderful.” “You are most welcome to hang the rucksack on the pegs at the door,” en hy beduie met die lepel na die voorportaal toe. Dan draai hy terug na sy mengbak. Sy staan, onwillig om die verligting toe te laat, die antiklimaks, die ontspanning.
“And the bathroom is down the age, second door on the left.”
* * *
“I saw her,” sê Barry oor die selfoon, met meer sekerheid as wat hy voel. “Where?” “She went into a house just a block from the restaurant.” “Jesus. When?” “A few minutes ago.” “You saw her?” “I was lucky, I just caught a glimpse, but it was her. No doubt.” “A glimpse? What the fuck does that mean?”
* * *
Hulle sit in die opnameateljee. Fransman Dekker wil haar vertel van die Barnard-saak. Inspekteur Mbali Kaleni sê: “Wag net ’n oomblik,” en sy maak haar oë toe, want sy wil die Amerikaanse meisie se saak uit haar gedagtes kry; sy was so seker sy gaan haar opspoor. Nou maak sy haar kop skoon, haar oë oop. “Go ahead,” sê sy. Dekker praat, gee vir haar die besonderhede, maar saaklik, kursories, die fronsende uitvoering van dwangarbeid. Sy houding is nie vir Mbali verbasend nie.
Sy weet haar manlike kollegas hou nie van haar nie. En die een wat die minste van haar hou, is Fransman Dekker. Maar sy het vrede daarmee, want sy weet waarom: Die mans voel oor die algemeen bedreig deur haar behendigheid, en hulle is geïntimideer deur haar etiek en haar eerlikheid. Sy drink nie, sy rook nie, sy vloek nie. Sy hou nie haar mond vir hulle nie. Die SAPS is nie ’n plek vir mooi broodjies bak nie; daarvoor is die taak te groot en die omstandighede te moeilik. Sy sê wat sy dink. Oor hulle ego’s, te dikwels die spil waarom alles moet draai. Oor hul voortdurende seksisme en rassisme. Oor hulle gebrek aan fokus. Te veel “gou ’n vleisie op die kole”, of “kom ons gaan maak ’n vinnige bier”, soos seuns wat nog nie grootgeword het nie. Te veel praatjies op kantoor, oor sport en politiek en seks. Dan sê sy reguit dit hoort nie. En hulle haat dit. Maar Dekker haat haar vir ander redes ook. Sy’t hom betrap, ’n paar weke gelede. In die gang, toe hy gedink het niemand hoor hom nie. Selfoon teen die oor, gefluisterde wellus-woorde aan ’n Tamaryn, terwyl sy vrou se naam Crystal is. Toe hy weer by die kantoor ingesluip kom, het sy opgestaan, voor sy lessenaar gaan staan en gesê: “ ’n Man moet getrou wees aan sy vrou.” Toe kyk hy net vir haar. Toe sê sy: “Bedrog dra baie soorte klere,” en sy loop. Sedertdien sien sy die haat in sy oë. Omdat sy weet én afkeur. Maar hier is werk om te doen. Daarom luister sy aandagtig. En sy antwoord hom net in Engels, al praat hy Afrikaans. Want sy weet hy haat dit ook.
* * *
Rachel Anderson maak die badkamerdeur agter haar toe met ’n dringende behoefte om te urineer. Sy maak die denim-kortbroek los, trek kledingstukke tot onder haar knieë, gaan sit. Die verligting is groot, die geluid só hard dat sy vir ’n oomblik wonder of hy sal kan hoor. Sy sien die badkamer; die mure is ’n pastel van ligblou, die porselein van die geriewe spierwit. Die bad, oud, opgeknap, op pote, is meteens ’n versoeking van warm, skuimende water wat die verskriklike tamheid en dowwe seer uit haar lyf sal trek, maar sy onderdruk dit, ’n oorgawe waarvoor sy nog nie reg is nie. En die ou man maak kos daar binne. As sy klaar is, gaan buk sy by die wasbak, maak die krane oop, neem die seep, was haar hande, die droë bloed en modder, die onderliggende vuil van vat aan
rotse en plante, mure en grond. Sy kyk hoe dit wegspoel. Sy meng warm en koud in bakhande en spoel haar gesig daarmee. Dan vat sy die koekie seep en smeer dit oor haar wange en voorkop, haar mond en ken, en spoel weer. Die donkerblou handdoek is vars en grof. Sy vee stadig oor haar gesig, hang dit weer netjies op. Eers dan kyk sy in die spieël, oudergewoonte, hande wat outomaties na haar hare strek en dit terugvee van haar gesig. Sy lyk gehawend. Sleg. Haar hare is onnet, slierte het uit die vlegsel ontsnap en raam haar gesig, haar oë bloedbelope, die moeë lyne om haar mond. Daar is ’n snymerk op haar ken, omring deur ’n kneus van ligte pers, nog ’n fyn bloedskraap oor haar voorkop; sy weet nie waar sy dit opgedoen het nie. Vuil in haar nek, op haar poeierblou T-hemp. Jy lééf. Dit vul haar met ’n diepe dankbaarheid. En dan die skielike skuld, want Erin is dood, liewe Erin, die emosie is ’n vloedgolf, abrup, oorweldigend, die verskriklike skande dat sy bly kan wees vir oorlewing, en Erin is dood. Dit breek die skanse skielik af, sodat sy vir die eerste keer volkome herleef: Sy en Erin wat vreesbevange hardloop, Erin wat hier voor haar ’n hand op die kerkmuur druk en oor die skerp pot-yster-penne spring, ’n fatale fout. “No!” het sy geskree, maar blindelings gevolg, so moeiteloos oorgespring, Erin het gaan staan, in ’n nou paadjie van die kerkterrein, tussen diep en donker skaduwees van groot bome. Rachel het besef hulle is vasgekeer, sy het verbygehardloop, desperaat gesoek na uitkoms, sy het bedoel om leiding te neem, ’n pad aan te dui, agter die kerk om, sy het gedink Erin volg haar, sy was al agter die gebou, buite sig, weg van die straatligte, toe sy besef sy hoor nie Erin se voeteval nie. Sy het omgedraai, met doodsangs, soos ’n ding wat sy saamsleep, waar is Erin? Onwillig, bang teruggedraf na die hoek van die kerkgebou. Erin op die grond, al vyf by haar, bukkend, knielend, geluide soos diere. Die mes het geflits. Erin se desperate gil, skielik stil. Swart bloed in die donker. Dié oomblik in haar sinapse versteen, onwerklik, oorweldigend. Swaar soos lood. Sy het omgedraai en gehardloop, oorlewingsdrang. Agter om die kerk. Weer oor
die heining. Groter voorsprong. Verligting. Dankbaarheid. Sy leef. Voor die spieël in die badkamer oorweldig dit haar, sodat sy nie vir haarself kan kyk nie. Sy laat haar kop in skande hang; sy gryp die kante van die wasbak met wanhopige hande. Die emosie is fisiek, ’n mislikheid uit haar maag uit wat haar ingewande laat saamtrek en haar wil laat opgooi, ’n droë verstikking wat uitrol na bo. Sy bulk een keer, en sidder. Dan begin sy huil.
* * *
Vusi Ndabeni sit voor in die een patrollievoertuig, tussen ’n konstabel en ’n inspekteur, al twee in uniform. Agter hulle op die Weskuspad is nog ’n vangwa. Hulle wou die sirenes en die ligte aansit, maar hy het gesê: “Nee, asseblief nie.” Want hy wil sonder fanfare aankom by die huis van J. M. de Klerk, hy wil dit stil-stil laat omsingel en dan aan die voordeur gaan klop. Die inspekteur het gesê hy weet waar die adres is, een van die singels in Parklands, ’n nuwe woonbuurt, waar wit en die opkomende swart middelklas skouer-aan-skouer en in klaarblyklike harmonie saambly, die Nuwe Suid-Afrika in die suksesvolle praktyk. By ’n verkeerslig draai hulle regs in Parkweg. Winkelsentrums, meenthuiskomplekse, dan weer links in Ravenscourt, regs in Humewood, nie die liniêre straatblokke van Mandelapark en Harare in Khayelitsha nie, maar ’n doolhof van singels en doodlope. Vusi kyk na die inspekteur. “Dit is net hier voor, eerste links, tweede regs.” Huise, meenthuise, woonstelle, nog netjies en jonk, die tuine in wording, die bome klein, of afwesig. “Ons moet nie voor die huis parkeer nie,” sê Vusi. “Ek wil hom nie skrikmaak
nie.” “O.K.,” sê die inspekteur en beduie weer vir die konstabel waar om te ry. Eindelik, ’n padpredikant wat sê Atlantic Breeze. Meenthuise. Die nommers, van hierdie kant af, is in die veertig, groot komplekse agter mure. “Is hier net meenthuise?” vra Vusi. “Ek dink nie so nie.” Maar nommer 24 is. Hulle hou op ’n afstand stil. “Ek wil uitklim,” sê Vusi en die inspekteur maak die deur oop en skuif uit. ’n Hoë wit muur, skerp metaal-ontmoediging bo-op, groot geverfde syfers, ’n twee en ’n vier. ’n Groot gemotoriseerde traliehek in die middel, en die meenthuise daar agter, ’n landelike styl, blou en groen hortjies langs effekleurige vensterrame, swart A-raamdakke. Net nog ’n vinnige spekulasieprojek wat binne vyf jaar saai en oninspirerend sal wees. “Ai,” sê Vusi. Dit is nie wat hy gevisualiseer het nie. Hy wink vir die ander voertuig se twee uniforms. Hulle klim almal uit en kom staan by hom. “Die baadjies,” sê hy. Die inspekteur maak die agterkant van die vangwa oop. Die koeëlvaste baadjies lê nie meer in die netjiese hoop van vroeër nie. Vusi neem een, trek dit oor sy kop, begin vasgespe. “Julle ook. Wag hier dat ek eers kyk of ek die hek kan oopkry.” Hulle knik, geesdriftig. Hy loop oor die straat en langs die muur af. Daar is ’n paneel by die toe hek, met ’n rooster voor ’n luidsprekertjie, roepknoppies, sommige met name langsaan. Hy skandeer, sien geen De Klerk nie. Heel bo, links, staan . Hy druk dit. ’n Elektroniese geluid oor die spreker. Dan niks nie. Hy druk weer. Geen antwoord nie. Hy kyk deur die traliewerk van die hek. Die inrypad loop in – en draai dan negentig grade links om agter ’n blok meenthuise te verdwyn. Hy sien geen teken van lewe nie, almal by die werk. Hy druk weer die knoppie, sonder hoop.
Die luidspreker krap en fluit kortstondig. ’n Infleksielose vrouestem sê: “Wat wil jy hê?”
* * *
Sestien verdiepings bo die drukgang van Adderleystraat staan die man by die venster, sy rug gekeer op die luuksheid van die woonstel agter hom. Hy kyk uit oor die stad. Voor hom, die Goue Akker, na links die Cape Sun-hotel, daaragter die toringblokke van die strandgebied, hul argitektoniese vorms ’n mengelmoes teen die horison. Die see se blou is sigbaar, bederf deur die hawe se hyskrane, twee olieboortorings, die maste van skepe. Die man se volbaard en hare is kort geknip, netjies, effekleurig en voortydig grys, want hy lyk nog nie vyftig nie – hy is fiks en slank in die denimhemp en kakie chino-broek, blou seiljagskoene. In die weerkaatsing van die hoë en breë venster is die bruingebrande gesig emosieloos. Een hand is in sy broeksak; die ander hou ’n dun selfoon vas. Hy verskuif sy blik van die vista voor hom na die foon se syferpaneel. Hy skakel ’n nommer uit sy geheue, hou die instrument millimeters van sy oor af. Hy hoor hoe dit een keer lui voor Barry dit antwoord. “Mr B.” Die man knik sy kop effens in tevredenheid vir die reaksietyd en die kalmte in Barry se stem. “I’m taking control,” sê hy, sy stem gemoduleer. “Right.” Verligting. “Describe the house to me.” Barry doen sy bes, beskryf die eenverdieping, die hoekerf, die posisie van die voordeur. “Does the house have a back door?’
“I don’t know.” “If it has, it should be towards Belmont Street?” “That’s right.” “O.K. I’m going to send Eben and Robert to cover that angle. I am also working on the assumption that she has no need to leave through the back door, because she does not know that we saw her. Is that a fair assumption, Barry? “Yes, sir.” “And she also does not know that we are watching the house.” “Yes, sir.” “Good. Let’s keep it that way. I hear you saw only one occupant, an old man.” “Right.” “No evidence of others?” “No, sir.” “Good. Now listen carefully, Barry: You, Eben and Robert will have to be ready to move in case of an emergency. If you get the call, go in and get her, no matter what it takes. Do you understand me?” “Yes, sir.” “But that would be second prize, and only if she calls the cops. We don’t know why she hasn’t called them yet, but it can happen at any moment, and we will have maybe five minutes’ warning. Which means you will have to be very quick.” “Right,” met kommer wat deurslaan. “And whatever you do, get the bag.” “O.K.”
“And we don’t need witnesses.” “I don’t have a gun.” “Barry, Barry, what did I teach you?” “Adapt, improvise and overcome.” “Exactly. But it might not be necessary, because we are working on first prize. It will take twenty or thirty minutes to put together, to make sure it’s quick, quiet and clean. In the meantime, you are my main man, Barry. If we call, go in. If she leaves, get her. No mistakes. We can’t afford any more mistakes. Do you understand that?” “Yes, sir.” “Are you sure? Have you thought of all the implications?” “I have.” “Good.” As hy die selfoon in sy broek se sak druk, sien hy die polisiehelikopter wat oor Tafelbaai aangevlieg kom, reguit na hom toe. Hy hou sy oë daarop tot dit hier laag oor die stad verbyvlieg.
27
Die uniforms staan buite met masjienpistole en koeëlvaste baadjies; Vusi is alleen binne by die kompleksistrateur. Sy laat hom aan brooddeeg dink, bleek en vormloos; selfs haar stem is sonder karakter. “De Klerk is in A6. Hy is nie ’n huurder nie; hy besit. Ek sien hom min. Hy betaal sy levy met ’n aftrekorder.” Sy het die een slaapkamer van haar meenthuis as ’n kantoor ingerig. Sy sit by ’n klein, goedkoop melamienlessenaar. Daar is ’n rekenaarskerm en sleutelbord voor wit melamienrakke met lêers, een daarvan nou oop langs die sleutelbord. Vusi staan by die deur. “Is hy nou hier?” “Ek weet nie.” ’n Blote konstatering van ’n onopwindende feit. “Wanneer laas het jy hom gesien?” “Ek dink dit was in November.” “So hy was in November laas by sy huis?” “Ek weet nie. Ek kom nie baie uit nie.” “Is daar telefoonnommers?” Sy kyk. “Nee.” “Kan jy hom beskryf?” “Hy’s jonk.” Sy sit ’n ronde wysvinger op die dokument neer. “Ses-en-twintig.” Kyk weer op na Vusi, sien die vraag op sy gesig. “Langerig. Bruinerige hare.” “Waar werk hy?’
Die wysvinger beweeg op die gedrukte dokument in die lêer. “Hier staan net ‘consultant’.” “Kan ek kyk, asseblief?” Sy skuif die lêer. Hy haal sy notaboek en pen uit, sit dit op die lêer se teenblad neer, kyk na die vorm. Voorletter en van: J.M. de Klerk. ’n Identiteitsnommer. Unit: Two Bedroom Duplex. Status: Owner and occupant. Sub-let: No. Levy: R800 p.m. Occupation Date: 1 April 2007 Occupation: Consultant Postal Address: Unit A6, Atlantic Breeze 24, Parklands 7441 Business Address: N/A Telephone Home: N/A Telephone Business: N/A Cellular: N/A Address and details: Next of kin: N/A En ’n haastige handtekening onder ’n verklaring dat hy die reëls en regulasies van die kompleks aanvaar. “Ry het met ’n Land Rover Defender?” “Ek weet nie.” Vusi stoot die lêer terug na haar toe. “Baie dankie,” sê hy, en dan, hoopvol: “Het jy ’n sleutel van sy plek?”
“Ek het.” “Sal jy vir ons oopsluit, asseblief?” “Die regulasies sê ek moet ’n lasbrief op lêer hê.”
* * *
Bennie Griessel sit in die radiokamer van die Caledonplein-stasie, ’n kaart van die stad op die tafel, sy notaboek en pen daarop. Hy luister hoe die jong sersant met elke patrollievoertuig praat oor die strate wat hulle gedek het. Hy maak haastig aantekeninge, probeer ’n beeld vorm van waar sy kan wees, waarheen sy op pad kan wees, wat hulle moet doen. Hy sukkel om sy kop om dit alles te kry – te veel moontlikhede en onsekerhede. Sy selfoon lui. Hy wys vir die sersant om die radio ’n oomblik lank stil te hou, kyk vinnig na die skerm en antwoord. “Vusi?” “Bennie, ons het ’n lasbrief nodig om in die huis in te kom.” “Is hy nie daar nie?” “Ek glo nie. Ons gaan nou klop, maar die opsigter het ’n sleutel …” ’n Vrouestem sê iets op die agtergrond. “Die istrateur,” sê Vusi. “Sy’t ’n sleutel.” “Ons het nie genoeg vir ’n lasbrief nie, Vusi. Drie syfers van ’n registrasienommer …” “Ek het so gedink. O.K. Ek bel weer …” Griessel sit die selfoon neer, tel sy pen op, wys vir die sersant hy kan aangaan. Hy kyk na die kaart, beweeg die pen se punt na die Kompanjiestuine. Dit is waar sy is.
Sy instink sê dit is waar sy is, want hy ken De Waalpark, hy ken Bo-Oranje, dit is sy blyplek, sy gebied, sy fietsroete. Bo-Oranjestraat, Goewermentslaan, die Tuine; as hy in haar skoene was, as hy moes hardloop van dáár, breedweg op pad Langstraat toe, bang en onseker, dan sou hy só gehardloop het. “Ek soek twee spanne in die Tuine,” sê hy vir die sersant. “Maar hulle moet eers kom foto’s haal.”
* * *
Piet van der Lingen hoor haar snik daar binne. Hy staan, effens krom, voor die badkamerdeur, sy hand gelig om sag te klop. Hy wil haar nie skrikmaak nie. “Rachel,” sê hy sag. Die snikke skielik stil. “Rachel?” “How do you know my name?” “The police woman told me. You are Rachel Anderson, from Lafa-yette in Indiana.” Daar is ’n lang stilte voor die deur stadig oopgaan en hy haar sien, die trane steeds op die wange. “West Lafayette, actually,” sê sy. Hy glimlag met groot deernis. “Come, my dear. The food is almost ready.”
* * *
Fransman Dekker vertel vir vet inspekteur Mbali Kaleni van die geld wat aan Jack Fischer en Genote oorbetaal is, tienduisend rand. Op daardie oomblik, met skielike helderheid en insig, besef hy hoe hy ’n hele paar probleme kan oplos. Hy kry sy strategie reg terwyl hy die vertelling afhandel – hy moet versigtig wees hoe hy die geelwortel vir haar uithou, want sy is bekend daarvoor dat sy gou lont ruik. “Die Bloemfontein-ding is die sleutel,” sê hy, versigtig om sy stemtoon steeds neutraal te hou. “Maar Fischer-hulle is slim. Sien jy kans?” Sy woorde is met groot sorg gekies. Sy maak ’n geluid agter in haar keel. “Slim?” Sy staan op. “They’re just men,” sê sy op pad deur toe. Hy voel verligting, maar wys niks nie. “Hulle is ou hande,” sê hy. Sy maak die deur oop. “Just leave Bloemfontein to me.”
* * *
As Vusi Ndabeni klaar geklop het, eers voor, dan by die agterdeur, stuur hy die uniforms om by aangrensende meenthuise te gaan hoor of iemand vir De Klerk ken. Hy bly agter, probeer vanaf die klein agterstoep, langs die groot braaidrom op wiele, deur die enigste spleet tussen twee gordyne loer. Hy sien ’n oopplanvertrek: heel agter ’n stukkie kombuis, met ’n leë bierbottel op ’n kas. Dan ’n rusbank van donker materiaal en hier reg voor hom, die hoek van ’n tamaai platskerm-TV. Geen tapyt op die teëlvloer nie. Die bierbottel kan al weke daar staan. Daar is as in die braai, net so niksseggend. Hy staan in die skaduwee van die klein balkon, kyk na die lappie grasperk, en wag dat die uniforms moet terugkom. Die “istrateur van die body corporate” het vir hom gesê dié meenthuise het
net onder die miljoen gekos verlede jaar, twee slaapkamers en ’n badkamer bo, groot leefvertrek en oopplan-kombuis onder, met ’n gastetoilet. ’n Nuwe Land Rover van meer as driehonderdduisend. Groot, nuwe TV. Hoe bekostig ’n sesen-twintigjarige dit alles? Dwelms, dink Vusi. Dan sien hy die poliesmanne aangestap kom. Hy kan sien hulle het niks om te rapporteer nie. Hy is skielik haastig, loop hulle tegemoet. Hy wil terug stad toe, terug na die Van Hunks, want dit is waar die sleutel tot hierdie hele ding lê.
* * *
Dit is vir haar surrealisties, onwerklik, die ou man in sy onberispelike wit hemp wat vir haar die stoel uittrek. Die heerlike reuk van gebraaide spek laat haar honger skielik opstaan, ’n ontwakende dier. Die tafel netjies gedek vir twee, die groot glasfles met lemoensap daarin, druppels kondensasie wat afloop, sodat sy skielik na die soet, koue vloeistof smag. Hy loop stoof toe, vra vir haar of sy kaas en spek op die omelet wil hê. Sy sê: “Please.” Hy moedig haar aan om lemoensap te drink. Sy skink met ’n hand wat effens bewe, bring die glas na haar mond, probeer om die oorweldigende dors te onderdruk. Kan hy vir haar twee snye roosterbrood maak? Asseblief. Hy raak besig, smeer ’n pan, voeg die geklitste geel van eiers by die wit wat hy vroeër geskei en geklop het, meng, laat dit uitloop in die pan. Gebraaide spek in stukkies langs ’n bord met gerasperde kaas. Hy plaas die pan op ’n gasplaat. Hy dek altyd vir twee, sê hy, sedert die afsterwe van sy vrou. Eintlik nog voor dit, toe sy siek was, het die gewoonte begin. Dit het hom minder alleen laat voel. En nou is dit ’n groot voorreg om iemand by die tafel te hê. En sy moet hom verskoon, hy gaan te veel praat, hy kry nie baie geselskap nie. Net die boeke; dit
is deesdae sy gespreksgenote. Wanneer laas het sy geëet? Sy moet dink. Gistermiddag, sê sy en onthou die groot burgers, hier teen vieruur, by ’n plekkie met ’n amperse Amerikaanse sestigeratmosfeer. “A hole in the wall,” het Erin gesê, en dan maak sy haar geheuebank toe, want sy wil nie nou onthou nie. Hy sprinkel spek en kaas op die omelet, maak die oond oop, haal die pan van die gasplaat af en plaas dit versigtig in die stoof, maak die oonddeur toe. Hy draai om na haar toe. Dit val so maklik plat, sê hy, as jy nie versigtig is. Hy sien haar glas is leeg. Hy kom na die tafel toe, skink dit weer vol. Sy sê dankie, met ’n klein, opregte glimlag. ’n Stilte, maar sonder ongemak. Die boeke, sê-vra sy, om die stilte te vul, om hoflik te wees, om dankie te sê. Ek was ’n historikus, sê hy. Nou is ek net ’n ou man met te veel tyd op my hande en ’n dokter-seun in Kanada wat vir my e-pos en sê ek moet besig bly; ek het nog baie om te gee. Hy gaan buk by die oond, kyk in. Amper reg, sê hy. Ek is besig met ’n boek. Ek het myself belowe dit is my laaste. Dit gaan oor die heropbou van Suid-Afrika ná die Tweede Vryheidsoorlog, die Boereoorlog. Ek skryf dit vir my mense, die Afrikaners, sodat hulle kan sien hulle is deur dieselfde ding as wat die swart mense nou gaan. Hulle was ook onderdruk, hulle was ook brandarm, grondloos, plat. Maar hulle het deur regstellende aksie opgestaan. En ekonomiese bemagtiging. Die parallelle is groot. Die Engelse het gekla oor dienslewering van munisipaliteite wat skielik nie meer goed was nie, omdat onbevoegde Afrikaners skielik oorgeneem het … Hy neem vatlappies, trek die oond oop. Die omelet in die pan is hoog gerys, die kaas gesmelt, die geur walm na haar toe en die speeksel van lus is skielik in haar mond. Hy vat ’n spatel, laat die omelet uitgly in ’n spierwit bord, vou dit behendig toe en bring dit na haar toe. “Catsup?” vra hy, sy oë ondeund agter die groot, ronde goueraambril. “I believe that’s what you call it.” “No thanks, this looks lovely.”
Hy skuif die sout en peper nader en sê hy het verleer om sout te gebruik, doktersinstruksies van sy seun en hy kan in elk geval nie meer so goed proe nie. Daarom kan die omelet te vars wees. Die probleem met omelette is dat ek net een op ’n slag kan maak. Eet gerus terwyl ek myne gou klaarmaak. Hy raak weer besig by die stoof. Sy neem die mes en vurk, sny deur die gepofte eier, bring dit na haar mond toe, haar honger oorweldigend, die smaak sag en heerlik in haar mond. Maar die boek is ook vir ons swart mense, sê hy. Die Afrikaner het opgestaan, ’n wonderbaarlike prestasie. En toe vergryp hy hom aan sy mag. Nou is die tekens daar dat die swart regering dit ook gaan doen. Ek is bang hulle maak dieselfde foute. Dis sal so jammer wees. Ons is ’n land van potensiaal, van wonderlike, goeie mense wat almal net een ding wil hê: ’n Toekoms vir ons kinders. Hier. Nie in Kanada nie. Hy sit weer die pan in die oond. Hy sê hy is ’n kaasfanatikus en sy seun sê suiwel is nie gesond nie, maar hy redeneer dat dit op nege-en-sewentig nie meer saak maak nie en hy glimlag weer met sy wit, eweredige valstande. Die roosterbrood! Hy het skoon vergeet … Hy klik sy tong en neem twee snye brood uit ’n plastieksak en plaas dit in die rooster. “This is delicious,” sê sy, want dit is, die helfte van die omelet al opgeëet. “Can I brew us some good coffee? There is an exceptional beanery in the BoKaap; they do their own roasting, but I grind it myself.” “That would be wonderful.” Sy wil opstaan en hom omhels. Die emosie lê groot en swaar in haar, teruggehou deur sy geesdrif en gasvryheid. Hy maak ’n kombuiskasdeur oop en haal ’n groot silwer blik uit. Hy sê hy moet nou nie van sy omelet in die oond vergeet nie, dit is die dilemma van die ouderdom, die vergeet, hy kon so goed multitaak in sy jonger dae, maar nou is dit al wat hy onthou – sy jonger dae. Hy skep koffiebone in ’n maler, druk ’n knoppie, die skerp geluid van lemme wat bone breek. Hy prewel iets; sy kan net sy lippe sien beweeg. Hy maal klaar, skuif die koffiemasjien se filter oop, gooi die koffie daarin. Hy neem die vatlappies, trek die oond oop.
“A mixture of cheddar and gruyére, it always smells better than it tastes. That is one thing about old age. Your sense of smell lasts longer than taste.” Die broodrooster skiet die twee snye op. Hy neem ’n klein bordjie, plaas die brood daarop, dra dit vir haar aan. “Some green fig preserve? I have a really good camembert to go with it, rich and creamy, made by a small cheesery near Stellenbosch,” en hy trek die yskas oop, haal dit in elk geval uit voor sy iets kan sê. Hy is terug by die stoof, skuif sy omelet in ’n bord, bring dit tafel toe, gaan sit. Hy neem ’n happie. “I often add feta as well, to this particular mixture, but it might be too salty for a young woman … The coffee!” Hy spring weer op, met verstommende energie, om water in die koffiemasjien te skink. Hy mors daarvan op die blad, vee dit eers met die wit waslap af. Hy druk die masjien se aanknoppie, kom sit weer. “West Lafayette. You’re a long way from home, my dear.”
28
Op die sestiende verdieping van die woonstelblok staan die man met die kortgeknipte grys baard, afgeëts teen die helder uitsig van die stad, sy hande agter sy rug gevou. Voor hom is die ses jong mans. Hulle kyk ongeïntimideerd na hom, in afwagting, drie swart, drie wit, verenig deur hul jeug, lenigheid, onverskrokkenheid. “Foute is gemaak,” sê die man op Engels, met ’n kenmerkende aksent. “Leer daaruit. Ek neem nou beheer oor. Dit is nie ’n mosie van wantroue nie. Sien dit as ’n opleidingsgeleentheid.” Een of twee knik effens; hulle weet hy hou nie van emosionele vertoon nie. “Tyd is ons vyand. Daarom sal ek dit kort hou. Ons vriend van Metro sal ’n gepaste voertuig verskaf, ’n paneelwa wat al vier maande onopgeëis in die skut in Groenpunt staan. Gaan haal dit; Oerson wag by die hek. Los die bussie in die parkade van die Victoria Junction-hotel.” Hy tel ’n tas van blink metaal van die vloer af op, plaas dit op die tafel voor hom. Hy kyk na een van die jong mans. “Die Taurus?” “In die hawe se water.” “Dis goed.” Die grysbaard knip die tas op die tafel oop, draai dit om sodat hulle kan sien. “Vier Stechkin APS’e, die APB-model. Die B staan vir Bes-shumniy, die Russiese woord vir ‘stil’, want die loop is uitgeboor vir laer omloopsnelheid en hulle kom, soos julle kan sien, met ’n knaldemper. Die wapens is 35 jaar oud, maar dit is van die betroubaarste outomatiese pistole op die planeet. Nege millimeter, twintig in die magasyn; die ammunisie is minder as ses maande oud. Die knaldempers beteken nie die vuurwapen is heeltemal stil nie. Dit maak ’n geluid gelyk aan ’n ongedemperde punt-twee-twee-pistool, genoeg om aandag te trek, wat ons nie wil hê nie. Gebruik net in ’n noodgeval. Is dit duidelik?”
Hulle knik nou almal, gierige oë op die wapens. “Baie meer stopkrag as die Taurus. Onthou dit. En die nommers is afgevyl; dié wapens kan nie na ons toe herlei word nie. Maak seker julle dra handskoene, en raak daarvan ontslae, sou dit wenslik wees.” Hy wag ’n oomblik om seker te maak daar is nie vrae nie. “Nou goed. Hier is hoe dit gaan gebeur.”
* * *
Inspekteur Fransman Dekker is op pad na waar Natasha Abader sit toe die lang wit man hom onderskep. “Jy is van die polisie?” “Ek is,” sê Dekker en besef die gesig is bekend. “My naam is Iván Nell,” met ’n infleksie van die sterk stem wat sê die naam beteken iets. “Was jy nie in daai TV-ding nie?” “Ek was een van die mentors op Supersterre …” “Jy sing …” “Dis reg.” “My vrou het Supersterre gekyk; aangename kennis. Jy moet my verskoon – ons is ’n bietjie besig hier vanmôre,” sê Dekker en begin weer beweeg na waar Natasha sit. “Dis hoekom ek hier is,” sê Nell. “Oor Adam.” Dekker gaan onwillig staan. “Hoe so?”
“Ek dink ek was die laaste ou wat hom lewend gesien het.” “Gisteraand?” Die sanger het nou sy volle aandag. Nell knik. “Ons het tot tienuur toe geëet by die Bizerca Bistro, hier by Pier Place.” “En toe?” “Toe is ek huis toe.” “Ek sien.” Dekker dink ’n oomblik lank na. “En hy?” “Ek weet nie waarheen Adam toe is nie. Maar toe ek vanoggend op die radio hoor …” Nell kyk rond na die ander mense wat te naby na sy smaak sit, na Natasha, wat opgestaan het en nader staan. “Is daar iewers waar ons kan praat?” “Waaroor?” Nell kom nader en sê gedemp: “Ek dink sy dood kan iets te doene hê met ons gesprek gisteraand, ek weet nie …” “Waaroor het julle gepraat, meneer Nell?” Hy lyk ongemaklik. “Kan ons iewers gesels?” ’n Dringende fluister. Dekker onderdruk die impuls om te sug. “Kan jy vir my net twee minute gee, asseblief?” “Natuurlik. Ek wil net nie hê julle moet dink, jy weet …” “Nee, meneer Nell, ek weet nie,” sê Fransman Dekker. Hy kyk na Natasha, wat geduldig wag, enkele treë van hulle af, dan terug na Nell. “As jy my net ’n oomblik kan gee.” “Natuurlik.”
* * *
Bennie Griessel is nie goed met sit en wag nie. Daarom loop hy uit by die radiokamer, deur die die besige aanklagkantoor en die veiligheidsdeure, tot in Buitenkantstraat, sy kop besig, sy moed laag. Hulle gaan haar nie kry nie. Hy het nou veertien patrollievoertuie wat ’n rooster ry, en een staan in Langstraat, met die bemanning wat wag by die Cat & Moose. Hy het tien tweemanvoetpatrollies, waarvan twee die Kompanjiestuin deursoek. Die helikopter het van Table View af teruggekom en die hele fokken stad gedek en nou is hulle al besig om by Kampsbaai en Bantrybaai en Seepunt te soek en daar is geen teken nie. Waar kan sy wees? Hy loop tot by sy motor, sluit oop, haal die Chesterfields uit die paneelkissie, sluit die deur, staan op die sypaadjie, sigaretpakkie in die hand. Wat mis hy? Was daar iets in die chaos van dié oggend wat hy gemis het? Dit is ’n bekende gevoel: Op die dag wat ’n misdaad gebeur, so baie inligting, sy kop té vol, die brokkies los en onsamehangend, dit verdring mekaar. Dit het tyd nodig, ’n nag se slaap, soms, sodat die onderbewussyn kan sorteer en liasseer, ’n trae sekretaresse wat teen haar eie, onaanjaagbare tempo werk. Hy haal ’n sigaret uit, sit dit tussen sy lippe. Hy mis iets … Skuif die boksie vuurhoutjies oop. Die veldmaarskalk. Jeremy Oerson en die soektog na die rugsak. Hy begin haastig terugstap op die sypaadjie, sit die vuurhoutjies in sy broeksak, bêre die sigaret weer in die pakkie, gaan in by die polies-stasie, is dit al? Is dit die enigste ding wat aan die deur van sy bewussyn kom klop? In die radiokamer vra hy vir die uniform waar hy ’n telefoonboek kan kry. “Charge office.”
Griessel gaan haal dit, blaai daarin terwyl hy terugkom; heel agter is die plaaslike regering se nommers. Hy kry Metro, sit die boek op die ou staatsdienstafel van donker hout waar sy kaarte en sy boekie en pen en selfoon lê, hou sy vinger op die nommer en bel. Twee luie en ’n vrouestem sê: “Cape Town Metropolitan Police, good afternoon, goeiemiddag,” en hy sê: “Jeremy Oerson, asseblief.” “Please hold,” en sy skakel hom deur en die nommer lui. Lank. Tot ’n man antwoord. “Metro.” “Jeremy Oerson?” “Jeremy is nie hier nie.” “Dit is insp … kaptein Bennie Griessel, SAPS, waar kry ek hom in die hande, dit is redelik dringend.” “Hou aan …” ’n Hand word oor die handstuk gehou, onontsyferbare woorde geroep. “Hy sal seker netnou terug wees. Soek jy sy selfoonnommer?” “Asseblief.” Griessel trek sy pen en boekie nader. Die man gee die nommer, Griessel skryf, lui af en bel. Oerson antwoord blitsvinnig. “Dis Jeremy.” “Bennie Griessel, SAPS, Ons het vanoggend in Langstraat gepraat.” “Ja.” Totale gebrek aan geesdrif. “Het julle iets gekry?” “Waar?” “In die stad. Die meisie se rugsak. Julle sou gesoek het …” “O. Ja. Nee, daar’s niks.” Sy houding staan Griessel nie aan nie. “Kan jy vir my sê presies waar julle gesoek het?”
“Ek sal moet uitvind. Ek het nie self gesoek nie. Ons het werk, jy weet …” “Ek dog dit is julle werk, om misdaad te beveg.” “Jou saak is nie al waaraan ons werk nie.” Nee, julle het nog parkeerkaartjies wat geskryf moet word, maar hy bepaal hom tot die onderwerp: “En jy is doodseker hulle het absoluut niks gekry nie.” “Niks van die meisie nie.” “So hulle het iets gekry?” “Die strate is vol goed. Daar’s ’n sak vol gemors in my kantoor, maar daar’s nie ’n paspoort of ’n beursie of iets wat aan ’n Amerikaanse vrou behoort nie.” “Hoe weet jy?” “Dink jy ek is stupid?” Jissis. Griessel haal stadig en diep asem. “Nee, ek dink nie jy is stupid nie. Waar is die sak?” Oerson talm voor hy antwoord. “Waar’s jy nou?” “Nee, sê my waar jou kantoor is. Ek laat dit haal.”
* * *
Natasha Abader sluit Adam Barnard se kantoor oop en sê: “Ek sal vir jou die moet gee as jy op sy laptop wil kyk.” Sy loop in, Dekker agterna. Daar is groot, geraamde foto’s teen die muur, Barnard en musieksterre, die een na die ander, mans met ’n arm om Barnard, van die vroue met hande om Barnard se lyf. Elke foto het ’n handtekening en ’n boodskap op, in dik swart kokipen. “Dankie, Adam!” “Adam vir president!!!” “Met liefde en dank.” “Die ster aan my hemel.” “Jy is my liefling.” Hartjies,
kruisies wat soentjies aandui, musieknote. Hy kyk na die lessenaar, waar Melinda Geyser volgens persoonlike getuienis gestreep is. Buiten die skootrekenaar is daar niks op nie. Sy verbeelding neem oor, Melinda lê op haar rug op die groot houtblad, poedelnakend, bene oor ’n staande Adam se skouers gehaak, mond oop in ekstase terwyl Barnard haar pomp, geluide wat deur die dun mure hoorbaar is. Dekker kyk skuldig na Natasha. Haar aandag is by die skootrekenaar; haar wenkbroue vorm ’n vraagteken. “Wat?” “Adam het sy rekenaar aangelos.” Dekker loop om, gaan staan langs haar. Hy kan haar parfuum ruik. Subtiel. Sexy. “So?” “Hy het dit nie gewoonlik gedoen nie. Ek sit dit aan as ek inkom, sodat hy …” Die skermskut is aan, ’n logo van AfriSound wat soos ’n klein vlaggie wapper en beweeg. Sy skuif die muis, die skermskut verdwyn, vra ’n sleutelwoord. Natasha buk af om dit in te tik, haar lang vingernaels maak ’n geluid op die sleutels, haar hals maak oop. Dekker se uitsig is goed; hy kan nie wegkyk nie. Haar borste is klein, ferm, perfek. Sy kom skielik regop. Hy skuif sy oë haastig na die skerm. Daar is geen programme oop nie. “Ek sal na sy e-pos moet kyk.” Sy knik, buk weer, werk met die muis. Hoekom kan sy nie sit nie. Of weet sy hy kyk? “Waar is sy dagboek?” “Hy het Outlook gebruik. Kom, ek wys jou,” en weer werk sy die muis, klik hier en daar. “Jy kan net Alt en Tab tussen die e-mail en die calendar,” sê sy en dan beweeg sy weg en hy gaan sit in die groot, gemaklike stoel.
“Dankie,” sê hy. “Kan ek jou ’n paar vrae vra?” Sy loop deur toe; vir ’n oomblik dink hy sy ignoreer hom, maar dan maak sy die deur toe, kom terug, gaan sit oorkant. Kyk hom vol in die oë. “Ek weet wat jy wil vra.” “Wat?” “Jy wil weet of ek en Adam … jy weet …” “Hoekom wil ek dit vra?” Sy haal haar skouers ongeërg op. ’n Sensuele gebaar, maar hy vermoed sy is onbewus daarvan. Sy het ’n gedemptheid aan haar, ’n hartseer. “Jy gaan ons almal ondersoek,” sê sy. Skielik wil hy weet, maar vir ’n ander rede. “Het jy?” En sy kop sê: Fransman, wat maak jy? Maar hy weet wat hy maak – hy soek moeilikheid en hy kan homself nie keer nie. “Ja.” Sy laat haar oë sak. “Hier?” Hy wys na die lessenaar. “Ja.” Hoekom het sy haarself vir ’n wit man gegee, ’n middeljarige wit man, sy wat mooi genoeg is vir ’n tydskrif se voorblad? Hy wil weet of dit beteken dat sy maklik is, toeganklik. Vir hom. “En vanoggend is ek bly ek het,” sê sy. “Omdat hy dood is?” “Ja.” “Daar’s baie stories oor hom … en vroumense.” Sy sê niks nie.
“Het hy vroue gedwing?” “Nee,” met ’n houding wat sê sy maak beswaar teen die vraag. “Het jy gehoor, gister? Toe Melinda hier was.” “Ek het,” sonder om te bloos of weg te kyk. “Weet jy hoekom hy haar laat kom het?” “Nee. Ek het net op sy kalender gesien sy kom.” “Maar gewoonlik is Jos by.” Weer die ophaal van die skouers. “Hier’s wat ek nie kan verstaan nie: Daar is drie van julle wat gehoor het hoe hy ’n gospelsangeres in sy kantoor … streep,” sy vingers maak aanhalingstekens om die woord. “En niemand dink dit is snaaks nie. Watse plek is dit dié?” Sy vererg haar; hy kan dit sien aan die liggaamstaal, aan die manier hoe sy haar mond trek, skielik styf en suur. “Komaan, suster, dink hoe dit lyk.” “Moet my nie ‘suster’ nie.” Hy wag dat sy moet verduidelik, maar sy sit net daar. “Het Adam Barnard vir jou enigiets van ’n DVD gesê verlede week? Iets wat hy deur die pos gekry het?” “Nee.” “Weet jy wie hom geskiet het?” Dit neem ’n rukkie voor die antwoord kom, onwillig, ’n vraag: “Jos Geyser?” “Miskien nie.” Sy lyk verbaas, vee die lang hare terug oor haar skouer, ’n geoefende beweging.
“Hoekom dink jy dit was Jos?” “Ek het hom gister gesien. Hy was kwaad genoeg. En hy is … weird.” “Weird?” Weer die ophaal van haar skouers, wat saamsweer om haar borste vreemd te laat beweeg onder die dun, stywe materiaal. “Gladiator turned gospel singer. Dis nie vir jou weird nie? Kyk hoe lyk hy …” “Ek kan hom nie toesluit oor hoe hy lyk nie. Wie was nog kwaad vir Adam Barnard?” Sy maak ’n wrang geluid. “This is the music business.” “En dit beteken?” “Almal is partykeer kwaad vir almal.” “En almal streep vir almal.” Sy ruk haar weer op. “Wie was nog kwaad genoeg vir hom om hom te skiet?” “Ek weet regtig nie.” Hy vra die vraag wat hom fassineer: “Hoekom was … die vroumense so mal oor hom? Hy was oor die vyftig …” Sy staan op, vou haar arms onder haar borste, kil en vies. “Hy sou twee-envyftig gewees het. In Februarie.” Hy wag vir ’n antwoord wat nie kom nie. Hy por haar aan: “Hoekom?” “It’s not about age, it’s about aura.” “Aura?” “Ja.”
“Watse aura?” “Daar’s meer as een soort.” “Wat was sy aura?” “Jy sal nie verstaan nie.” “Educate me.” “He had an aura of power. Very strong.” En dan kyk sy weer uitdagend in sy oë en sê: “Vrouens hou van die power of money, en dit het hy gehad. En hy was die gateway to the stars, vir baie vrouens. Hy kon hulle voorstel aan die celebrities met die geld. Maar daar is ’n ander power wat heeltemal irresistible is – the power to empower.” “Nou verloor jy my.” “Die tweede prys is om ’n man met power in jou lewe te hê. Die eerste prys is om self die power te hê sodat jy nie ’n man in jou lewe nodig het nie. That was the kind of power Adam Barnard could give.” “Vir die sangeresse? Hy kon vir hulle fame en fortune gee?” “Ja.” Hy knik sy kop stadig. Sy huiwer ’n oomblik, draai dan om en loop deur toe. “Maar jy’s nie ’n singer nie,” sê hy. Met haar hand op die handvatsel, sonder om om te kyk, sê sy: “Tweede prys is nie so sleg nie.” Sy maak die deur oop, gaan uit. “Stuur die Nell-ou in, asseblief,” roep hy agterna, maar hy weet nie of sy hom gehoor het nie.
29
Alexa Barnard raak daarvan bewus dat iemand langs haar bed is. Sy maak haar swaar ooglede oop, voel die dowwe pyn in haar voorarm, die gewig van haar lyf, die vreemde reuk van die hospitaalkamer. Sy sien, regs van haar bed, groot oë agter dik brillense. Sy probeer fokus, maak haar oë weer toe. “My naam is Victor Barkhuizen, en ek is ’n alkoholis,” sê ’n stem, baie sag, baie simpatiek. Sy maak weer haar oë oop. Hy is ’n omie. “Bennie Griessel het my gevra om te kom inloer. Die speurder. Ek is sy AAborg. Ek wil net hê jy moet weet jy is nie alleen nie.” Haar mond is baie droog. Sy wonder of dit die medisyne is, die goed wat haar laat slaap. “Die dokter?” vra sy, maar haar tong sit aan haar verhemelte vas, haar lippe stram, die woorde wil nie vorm nie. “Jy hoef nie te praat nie. Ek gaan net ’n rukkie hier by jou sit en ek gaan my kontaknommer by die saalsuster los. Ek sal vanaand weer kom.” Sy draai haar kop moeisaam na hom toe, kry haar oë oop. Hy is kort en krom, bles en bebrild, en die hare wat hy rondom sy kop oorhet, is in ’n lang grys vlegsel teen sy rug af. Sy steek haar regterhand stadig na hom toe uit. Hy neem dit, hou dit vas. “Jy’s die dokter,” probeer sy weer. “Vir my sondes.” “Ek rook,” sê sy.
“En jy het nie eens ’n koors nie.” Sy weet nie of die glimlag op haar gesig wys nie. “Dankie,” sê sy net en maak weer haar oë toe. “Geen probleem nie.” Dan onthou sy, iewers het sy deur die newels ’n gedagte gehad, ’n boodskap. Sonder om haar oë oop te maak, sê sy: “Die speurder …” “Bennie Griessel.” “Ja. Ek moet vir hom iets sê.” “Ek kan vir hom ’n boodskap gee.” “Sê hy moet kom. Oor Adam …” “Ek sal hom sê.” Sy wil iets byvoeg, iets wat haar nou ontglip, soos ’n silwer, gladde vis uit haar hande en die donker water in. Sy sug en sy voel Victor Barkhuizen se hand en sy druk dit, stadig, net om seker te maak dit is nog daar.
* * *
“I’d like to call my dad. I’ll pay, of course,” sê Rachel Anderson terwyl sy hom help om die borde wasbak toe te dra, ondanks sy protes. “No need for that,” sê hy. “The phone is on the table, where I work.” En dan lag hy. “If you can find it. Go, I will clear the dishes.” “No,” sê sy. “The least I can do is to wash up.” “Under no circumstances.” “Please, I insist. I love washing up.”
“You lie with such grace, my dear.” “It’s true! At home I do it all the time.” “Then we’ll do it together,” sê hy terwyl hy die skottelgoedseep oor die borde spuit en dan die krane oopdraai. “You do the washing, I’ll dry and pack them away. Do you still live with your parents?” “Oh, yes, I just finished school last year. This is supposed to be a gap year, before I go to college.” “Here, you can wear these gloves … And where would you go for your studies?” “Purdue. My parents work there.” “They’re academics?” “My dad has tenure at English Lit. My mom’s at the School of Aeronautics & Astronautics, on the Astrodynamics and Space Applications research team.” “Good grief.” “She’s a real scientist, the most scatterbrained person I know. I love her to death, she’s brilliant, she does spacecraft dynamics, orbit mechanics, it’s about satellite control, how their orbits decay, how they re-enter the earth’s atmosphere, and it’s like a rhyme, I can say it, but I don’t understand anything she does, I think I take after my dad, and I’m talking too much, right now.” Hy sit ’n hand op haar boarm. “And I’m enjoying every minute, so talk all you like.” “I miss them very much.” “I’m sure you do.” “No, it’s more like … I left home almost two months ago, I’ve been away from them for so long, it gives you … I did not know how terrible I was, such a teenager …” “We all were. It’s the way life works.”
“I know, but it took a really bad thing …” Haar hande raak stil in die was, haar kop sak na haar bors toe, sy staan doodstil. Hy sê eers niks, kyk net na haar met geweldige deernis. Hy sien die trane wat geluidloos oor haar wange rol. “Would you like to talk about it?” Sy skud haar kop, veg vir beheer. Dit kom langsaam. “I can’t. I shouldn’t …” “You’re almost done. Go and call your father.” “Thank you.” Sy talm. “You’ve been so very kind … I …” “I have done very little.” “Will it be rude if I … ?” “I don’t think you have a rude bone in your body. Please, just ask.” “I am dying for a bath, I don’t think I’ve ever been this dirty, I’ll be quick, I promise …” “Good heavens, of course, and take all the time you need. Would you like a foam bath? The grandchildren gave me some for my birthday, but I never use it …”
* * *
Daar is nie parkering in Kasteelstraat nie. Griessel moet ’n blok van die Van Hunks af in Langstraat gaan stilhou, en die boetebessie sak soos ’n aasvoël op hom toe. Hy betaal vir twee ure en loop dan haastig na die nagklub toe, verbaas om Vusi by die voordeur te sien wag. “Ek dog jy’s nog op pad.” “Table View se ouens is wild. Sirene, al die pad. Dis gesluit hier. Ons moet agter om.” “Ek het die ooggetuie van Carlucci’s laat haal, Vusi. En vir Oliver Sands by die
losieshuis,” sê Griessel terwyl hulle sy aan sy loop. “O.K., Bennie.” Hulle draai by die dienssteeg in. Griessel se selfoon lui; die skerm sê MAT JOUBERT. “Hei,” sê Bennie as hy antwoord. “Is dit kaptein Bennie Griessel?” vra Joubert. “Kan jy dit fokken glo?” “Baie geluk, Bennie. Dis hoog tyd. Waar’s jy?” “Nagklub in Kasteelstraat. Die Van Hunks.” “Ek is net om die draai. Wil jy Steers hê?” “Jissis, asseblief,” want hy het gisteraand laas geëet. “ ’n Dagwood-burger, tjips en ’n Coke; ek sal met jou regmaak.” Sy maag maak in afwagting ’n hoorbare geluid van die honger. “Wag, dat ek net vir Vusi vra of hy ook wil eet …”
* * *
Op die derde verdieping van ’n onlangs gerestoureerde kantoorgebou in die St. George-wandelhal maak die hysbak oop om die gesette vrouefiguur vry te laat. Sy skuif die handsak oor haar skouer en die pistool op haar heup reg en loop doelgerig oor die diep, ligbruin tapyt na waar die middeljarige bruin ontvangsdame agter ’n donkerhout-toonbank sit. Sy vat die SAPS-eieningskaart wat om haar nek hang tussen haar duim en wysvinger vas, stoot dit na die ontvangsdame, kyk op na waar die woorde Jack Fischer en Genote teen ’n donkerhout-paneel staan, elke elegante letter uit glimmende koper gesny en individueel gemonteer. “Inspekteur Mbali Kaleni, SAPS. Ek moet met Jack Fischer praat.”
Die bruin vrou is onbeïndruk. “Ek twyfel of hy beskikbaar is,” en sy steek haar hand onwillig na ’n telefoon toe uit. “Is hy hier?” Die ontvangsdame ignoreer haar. Sy bel ’n viersyfer-nommer en sê dan gedemp: “Marli, hier is ’n vrou van die polisie wat met Jack wil praat …” “Is Jack hier?” vra Kaleni weer. “Ek sien,” sê die bruin vrou in die telefoon, met ’n mate van genoegdoening. “Dankie, Marli.” Sy sit die telefoon neer en snuif-snuif met ’n klein frons. “Wat is dit wat so ruik?” “Ek vra of Jack Fischer hier is.” “Mnr. Fischer se dagboek is vol. Hy kan jou eers ná ses sien.” “Maar hy is hier?” Die vrou knik sonder geesdrif. “Sê vir hom dit is in verband met die moord op sy kliënt, Adam Barnard. Ek moet binne die volgende vyftien minute met hom praat.” Die ontvangsdame maak haar mond oop om te reageer, maar sy sien hoe Kaleni omdraai en waggel na een van die groot gemakstoele wat teen die muur staan, behaaglik gaan sit, haar handsak op haar skoot plaas en en ’n wit plastieksakkie uithaal met die letters KFC en die logo van ’n bebrilde, bebaarde wit man daarop. Die ontvangsdame se frons verdiep as Kaleni haar pofferhand in die plastieksak indruk en ’n rooi-en-wit kartonboksie te voorskyn bring, dan ’n blikkie Fanta Grape. Sy sien hoe die polisievrou haar handsak op die grond plaas, die Fanta op die tafel langs haar, en met groot konsentrasie die boks oopmaak. “Jy kan nie hier sit en eet nie,” sê sy, met meer verstomming as gesag. Mbali Kaleni lig ’n hoenderboud uit die pakkie, sê: “Ek kan,” en hap daaraan.
Die ontvangsdame skud haar kop en maak ’n geluid, iewers tussen ongeloof en wanhoop. Sy tel die telefoon op sonder om haar oë van die etende polisievrou af te haal.
* * *
Galina Federova stap voor in die gang af, met Vusi en Griessel agterna, en Bennie ruik die drank nog voor hulle in die groot nagklublokaal instap – die bekende, muwwe, ou reuk van drinkplekke waar alkohol jare lank geskink, gedrink en gestort is, die reuk wat hom vir langer as ’n dekade ’n toevlugsoord gebied het. Sy maag trek saam, in vrees en antisipasie. As hy by die deur ingaan en die klub maak oop voor hom, soek sy oë eerste die rakke met bottels teen die muur, die lang rye langs mekaar, flonkerend soos juwele in die helder ligte wat daar brand. Hy hoor hoe die Russiese vrou sê: “This is the night shift,” maar hy staar na die drank, sy kop skielik vol herinneringe, en dan ’n oorweldigende heimwee vir die ontelbare dae en nagte van drink saam met vergete broers van die bottel. En die atmosfeer van daardie skemerplekke, die gevoel, die volslae berusting van ’n hand om ’n glas en die wete dat ’n hervul net ’n knik van die kop ver is. Hy proe nie nou in sy mond die brandewyn of Jack Daniels wat hy gewoonlik gedrink het nie, maar die jenewer wat hy vanoggend vir Alexa Barnard geskink het. Hy herroep met ontstellende helderheid haar verligting; hy kon so duidelik die uitwerking van die alkohol op haar sien, hoe dit al die demone verdryf. En dit is wat hy nou wil hê, nie die reuk of die smaak nie, maar die kalmte, die ekwilibrium wat hom al die hele dag ontwyk. Hy smag na die uitwerking van drank, hy hoor Vusi wat sy naam sê, een, twee keer en dan ruk hy sy kop weg van die bottels en kyk na sy swart kollega met intense fokus. “Dis die nagskof se mense,” sê Vusi. “O.K.” Griessel kyk deur die vertrek, bewus van sy hart wat te vinnig klop, sy palms wat sweet, die wete dat hy die verlange met geweld uit homself moet pers. Hy kyk na die mense. Sommige van die personeel sit by tafels; ander is besig om stoele reg te skuif, tafels af te vee. Hy hoor vir die eerste keer die musiek op die
agtergrond, vreemde rock. “Can you ask them to sit, please?” sê hy vir Federova en hy dink hy sal homself baie gou moet regruk; hy het ’n jong, verlore, beangsde meisie om op te spoor. Die vrou knik en klap op haar hande om haar personeel se aandag te kry. “Come. Sit.” Griessel sien hulle is jonk, almal aantreklik, meestal mans, nege of tien van hulle, vier vroue. Nie een lyk vreeslik ingenome om hier te wees nie. “Can someone turn off the music?” vra Griessel, sy geduld dun geskaaf deur die algemene gebrek aan belangstelling, die drank, die dringendheid in hom. ’n Jong man staan op en loop na die klankapparaat, druk of draai iets en skielik is dit stil. “They are from the police,” sê Galina Federova, haar stem saaklik, maar die irritasie slaan deur. “They want to ask questions about last night.” Sy kyk vir Griessel. “Good afternoon,”sê hy. “Last night, two American girls visited this club, young tourists. This morning, the body of one of them was found at the top of Long Street. Her throat was cut.” Hy ignoreer die gedempte geluide van ontsteltenis; hy het ten minste nou hul aandag. “I’m going to around a photograph of the victim and her friend. We need your help urgently. If you them at all, put up your hand. We believe the other girl is still alive, and we have to find her.” “Before it is too late,” sê Vusi Ndabeni sag hier langs hom. “Yes,” sê Griessel en gee die helfte van die foto’s vir Vusi, loop dan na die agterste tafel, begin dit uitdeel, sien hoe hulle met die gewone makabere belangstelling daarna kyk. Hy gaan staan weer voor, wag vir Vusi om die laaste foto’s uit te deel. Federova gaan sit by die kroeg en steek ’n sigaret aan. Voor hom is die jong werkers se koppe omlaag, besig om die foto’s te bestudeer.
Dan kyk twee of drie stadig op, versigtig, met daardie tentatiewe uitdrukking wat sê hulle herken die meisies, maar hulle wil nie eerste wees om ’n hand op te steek nie.
30
Mbali Kaleni is bewus van die bruin ontvangsdame se afkeer, maar sy verstaan dit nie. ’n Mens moet eet. En dit is etenstyd en hier is stoele en ’n tafel. Dit is die probleem in hierdie land, dink sy, al hierdie klein kultuurverskille. ’n Zoeloe eet wanneer sy moet eet, dis normaal, dis natuurlik, dis nie ’n groot ding nie. En sy pla niemand nie; sy het nie ’n saak met hoe en wat en wanneer die bruines en dit wittes eet nie. As hulle agter toe kantoordeure of iewers in ’n kloustrofobiese kombuisie hul smaaklose wit toebroodjies wil gaan nuttig, is dit hulle probleem. Sy oordeel nie. Sy skud haar kop, haal die bakkie met die kapokaartappels en sous uit, lig die deursigtige dekseltjie af, neem die klein wit plastieklepeltjie en maak seker sy vat ’n klein, goedgemanierde happie. Dit is deel van haar ritueel, sy eet altyd eers al die hoender, dan die aartappels, sy los die helfte van die koeldrank vir heel laaste. En, soos gewoonlik, dink sy as sy eet. Nie oor die musiekman se dood nie; dit is die Amerikaanse meisie wat by haar spook. Sy was so seker sy gaan haar kry. Haar kollegas het vervaard rondgejaag, afkophoenders in ’n krisis, maar dit is hoe mans is. As die nood druk, wil hulle dóén; hulle kan nie die impuls onderdruk nie. Daardie situasie het vir kalmte gevra, vir logika en kousale denke. Dit is hoekom sy by die spoor in die blombedding uitgekom het. En toe, niks. Dit is wat sy nie kan verstaan nie. Die meisie sou nie daar oor die houtheining gespring het net om oor die volgende muur te klouter en weer in die pad te wil afhardloop nie. Maar die ou man sê hy het haar gehoor, tot by die muur. Hoekom het Rachel Anderson nie aan sy deur gaan klop en gevra vir skuiling nie? Te min tyd. En as die tyd so min was, sou sy op ’n ander manier uit die gesigsveld van die straat wou kom. Hoekom het die helikopter haar nie gesien nie? Want soos Kaleni dié ding deurdink het, was daar net twee opsies vir ’n voortvlugtige vrou wat uit die strate wil bly: Kom by ’n huis in, of skuil iewers
op ’n erf waar niemand jou kan sien nie. As sy nie by die ou man in is nie, moes sy oor die noordelike muur gespring het, na die volgende huis toe. Maar Kaleni het ’n uniform, ’n lang, rietskraal Xhosa, oor die muur laat kyk, want sy was te kort. En hy’t gesê daar’s niks nie, net so ’n kruietuintjie en ’n plastiektafel en stoele. Het sy ook oor die volgende muur gespring, is sy deur die volgende agterplaas? Dan moes die helikopter haar die een of ander tyd gesien het. En as sy só ver gevorder het, hoekom het Mbali Kaleni hierdie gevoel gehad dat sy naby was? Sy skraap die laaste van die aartappel uit en plaas die deksel weer op die bakkie, en die bakkie in die boksie. As sy klaar is hier, sal sy weer Bo-Oranje toe ry. Weer gaan kyk. Sy’s dit aan die meisie verskuldig, ’n vrou se kalmte, logika en kousale denke.
* * *
Iván Nell sit oorkant Fransman Dekker in Adam Barnard se kantoor en hy sê met sy diep stem: “Ek wou vir Adam sien, want ek dink hulle het my verneuk. Met geld.” “Hoe so?” “Dis ’n lang storie …” Dekker trek sy notaboek en pen nader. “Kan jy my die hooftrekke gee?” Nell leun vooroor in die stoel, plaas sy elmboë op sy knieë, sy gesig ernstig. “Ek dink hulle het hulle boeke gekook. Ek het gisteraand vir Adam gesê ek wil ’n ouditeur inbring, want dinge lyk nie reg nie. En toe ek vanoggend oor die radio hoor van sy dood …” “Wat het jou laat dink dinge is nie reg nie?”
“Wel, om syfers van verkope te kry, dit het geword soos tande trek; dit is ’n groot gesukkel om iets uit hulle uit te kry. En toe, verlede jaar, die geld wat ek met songs op compilations gekry het, by independent labels … Dit was ’n moerse klomp meer as wat ek gedink het. Toe gaan maak ek my somme …” “So AfriSound is nie jou label nie?” “Nee, hulle was, tot Februarie verlede jaar.” “Hulle het jou CD’s gemaak?” “My kontrak was vir drie oorspronklike albums en die opsie van ’n Greatest Hits, wat verlede jaar uitgekom het, alles by Adam. ” “En toe gaan jy na iemand anders toe?” “Nee, ek het my eie label begin.” “Omdat AfriSound jou verneuk het?” “Nee, nee, toe het ek nog nie geweet hulle boor my nie.” Dekker leun terug in die gemaklike stoel. “Meneer Nell, kan jy vir my dié ding heel voor gaan haal, asseblief?” “Ek … jy moet sommer Iván sê.” Dekker knik, beïndruk, maar hy wys dit nie. Hy het ’n houding verwag, want die sanger is bekend, wit, suksesvol. Maar daar’s geen ego nie, geen afpraat na ’n bruin poliesman nie, net ’n opregte begeerte om te help. “Ek het op varsity in pubs begin speel, sommerso vir die sakgeld, hier in 1996. Engelse covers, Kristofferson, Cohen, Diamond, Dylan, daardie soort van goed, net ek, met ’n kitaar. Hier van ’98 af, toe ek klaar geswot is, toe loop ek deur tot deur in Pretoria vir gigs, toe begin ek sing in Café Amics, McGinty’s, Maloney’s, by party plekke eers sonder betaling; niemand het van my geweet nie. Toe doen ek twee sets Engelse covers, die laaste set Afrikaans, met ’n paar van my eie goed ingegooi, net so om die gehoor te toets. Toe gebeur daar hierdie ding, wanneer dit tyd word vir die laaste set, is die plek skielik vol. En die mense sing saam. En hulle raak al hoe meer, asof daar ’n honger is vir Afrikaanse goed,
asof hulle iewers wil behoort, die studente, die jongmense. In elk geval, die gigs het al hoe meer geword, ek het later ses aande ’n week gespeel, meer geld gemaak as by die werk, toe begin ek dit voltyds doen in 2000. Toe maak ek in 2001 my eie CD wat ek by die shows verkoop …” “By watter label?” “Nee, ek het nie ’n label gehad nie.” “Nou hoe maak jy ’n CD as jy nie ’n label het nie?” “Jy moet net geld hê. Daar was ’n ou by Hartebeespoort, hy’t so in ’n buitekamer ’n studio gehad, ek het by hom gaan record, destyds het hy my so sestigduisend gevra, ek moes gaan skuld maak …” “Nou hoekom het ’n mens ’n label nodig?” “Vir omtrent alles, maar die groot ding is kapitaal. As jy ’n ordentlike album wil maak, ’n stewige opname met goeie musikante en genoeg tyd in die ateljee, het jy tweehonderdduisend nodig. Ek kon nie daar bykom nie. Daardie eerste CD van my, dit was maar primitief, jy kan dit hoor. Maar jy sit in die aand in die pub en jy sing en dan sê jy daar’s ’n CD en die mense het ’n paar doppe in en hulle kom koop, sê nou maar tien of so op ’n aand, en jy kry jou geld terug, maar jy kan dit nie op die radio gespeel kry nie; dis net nie goed genoeg nie. By ’n label betaal hulle vir ’n orkes, vir ’n regisseur, vir ’n sound engineer, hulle bemark die ding, hulle versprei hom, dis ’n ander ball game.” “Nou hoe het jy by AfriSound uitgekom?” “Adam het gehoor van wat daar bo aan die gang was, van die gehore wat so gegroei het. Toe kom luister hy en hy sê hy wil my teken. Ek bedoel, Adam Barnard, dis waarvan ’n ou droom, hy’s hierdie legende, hy’s Meneer Afrikaanse Musiek. Hy’t my my groot kans gegee, hy’t my op die map gesit. Daarvoor sal ek hom altyd dankbaar bly … In elk geval, toe teken ons vir drie albums en die opsie van ’n Greatest Hits. En hy sê vir die eerste een moet ek my eie album oor opneem, met die beste musikante. Adam het self produce; dit was ’n dream team. En hulle betaal vir RSG om die CD te speel, die album het eindelik dubbel-platinum gegaan, dit het meer as drie jaar gevat, maar ons het goed gedoen. Die volgende twee albums ook, en die Greatest Hits is al by platinum.”
“Nou hoekom wil jy nie meer by AfriSound sing nie?” “Baie redes. Kyk, die groot labels gaan elke sent uit jou uit maak wat hulle kan. Daar’s altyd groot beloftes, maar hulle hou nie altyd daarby nie … Maar eindelik gaan dit oor marges. By ’n platemaatskappy kry jy twaalf persent, partykeer minder. Maar op jou eie kry jy alles ná insetkoste, tagtig, vyf-en-tagtig persent, as jy eers jou studiokoste terugverdien het. Dis ’n helse verskil. En ek het nou die kapitaal om ’n ordentlike studio lank genoeg te huur dat ek die beste moontlike produk kan lewer.” “Wat beteken dit as jy sê julle het ‘goed gedoen’? Watse bedrae praat ons van?” “Kyk, dit hang af …” Ongemaklik, asof hy nie regtig daaroor wil praat nie. “Net min of meer.” “Jonkmanskas was my eerste album vir Adam, dit het maar vyftienduisend gedoen in die eerste jaar, maar jy moet jou brand bou, want as mense van jou tweede hou, dan gaan koop hulle weer die eerste. So, Jonkmanskas het redelik begin, maar hy staan nou al op honderd-en-vyftigduisend …” “En wat is jou aandeel daarvan?” “Dit hang ook af of ek dit self by ’n konsert verkoop en of jy dit in die winkel gaan koop.” Dekker sug. “Iván, ek probeer my kop om die musiekbesigheid kry. Gee my ’n ball park figure vir wat jy met ’n CD verdien. Deesdae.” Nell sit stadig regop, steeds ongemaklik oor die onderwerp. “Kom ons sê so sewehonderd-en-vyftig, oor drie, vier jaar.” “Sewehonderd-en-vyftig-duisend?” “Ja.” “Fok,” sê Dekker sag en maak ’n aantekening in sy notaboek. “Nou hoe het hulle jou verneuk?” “Dit klink na baie geld, inspekteur, maar dit is voor belasting, en daar is baie
onkoste …” “Hoe het hulle jou verneuk?” “Ek weet nie. Dis hoekom ek ’n ouditeur wil inbring.” “Jy moet tog ’n teorie hê.” “Wel, verlede jaar, toe doen ek drie songs vir compilation albums –een vir Sean Else se rugby-CD en twee vir Jeremy Taylor, ’n country-album en ’n Kersalbum. Sean en Jeremy is independents, en toe ek die rugby-CD se geld kry, toe begin ek wonder, want dit was ’n kleinhuisie vol geld, in verhouding baie meer as wat ek by Adam-hulle gekry het. En toe die country-ding se betaling kom, toe is dit dieselfde storie. Toe kyk ek mooi na die state, na die aftrekkings en die verkope en die royalties, en hoe meer ek kyk, hoe minder maak dit sin. Nou moet jy onthou, op ’n compilation album is jy een van tien of meer artists; so, jy kry sê nou maar een tiende van die royalties wat jy gewoonlik kry. So, ek het nie veel verwag nie. En toe’s dit goeie geld. En toe besef ek iets is nie lekker nie.” “En toe praat jy met Adam Barnard.” “Ek het hom gebel, so ’n week gelede, en gesê ek wil hom kom sien. Ek het nie gesê waaroor nie; ek het net gesê ek wil praat oor my kontrak. Toe sê hy, kom ons gaan eet rustig.” “En dit was gisteraand?” “Dis reg.” “Wat was sy reaksie?” “Hy’t gesê sover hy weet, het hulle niks om weg te steek nie. Toe ek sê ek wil my eie ouditeur bring, toe sê hy ‘geen probleem nie’.” “En toe?” “Toe bied hy my ’n nuwe kontrak aan. Toe sê ek ‘nee dankie’. En dit was dit. Toe praat ons oor ander goed. Adam … Hy was great company, soos altyd. Sy stories … Die ding is, gewoonlik kuier Adam tot twaalfuur, eenuur, hy’t nie einde nie. Maar gisteraand so halftien, toe sê hy kan hy net gou ’n oproep gaan
maak, toe gaan staan hy buite en hy bel, en toe kom hy terug en sê hy sal moet loop. Ons het die rekening gekry, en so tienuur, toe’s ons daar uit.” Dekker kyk na Barnard se dagboek op sy rekenaar. By 19:00 staan Iván Nell Bizerca, maar daar is geen inskrywings vir later die aand nie. Hy maak ’n aantekening in sy notaboek: Selfoon 21:30 ??, en hy wonder wat van Adam Barnard se selfoon geword het, want dit was nie vanoggend op die toneel nie. “Jy’t geen idee vir wie hy gebel het nie?” “Nee. Maar hy was nie die soort ou wat opgestaan het om te bel nie. Hy’t gewoonlik sommer daar by jou gesit en praat, maak nie saak wie dit was nie. En toe ek vanoggend hoor hy’s geskiet, toe ek oor die ergste skok kom, toe begin ek wonder.”
* * *
Sy het met een voet in die warm skuimbad gestaan en weer die moontlikheid gesien om haar oor te gee aan die luuksheid daarvan, lus om haar hare te was en haar lyf te skrop en dan terug te lê en die seer en die moeg te laat wegsmelt. Sy kon nie. Sy moes haar pa gaan bel; hulle sal mal wees van bekommernis. Maar sy wil net gou bad. Want sy het netnou, in die kombuis, vir die eerste keer sedert laasnag ’n uitkoms gesien, ’n vooruitsig: As sy haar pa bel, sal hy iemand kry om haar te kom haal, dalk van die ambassade, en hulle sal haar ondervra, sy sal hulle alles vertel en dan sal daar ’n proses wees, dalk lang gesprekke oor alles wat gebeur het. Wat beteken dat dit ure kan neem voor sy die sweet en die stof en die bloed kan afwas. Daarom moet sy nou, vinnig, die kans benut. Toe klim sy in, gaan sit. Die warm water brand die krap- en snywonde, maar die genoegdoening is oorweldigend, sodat sy stadig teruggelê het tot haar borste ook onder die skuimborrels ingeglip het. Gou maak.
Sy kom skielik orent, met groot selfdissipline, staan regop, neem die seep en die waslap en dan begin sy haar jeugdige lyf skrop.
12:57 – 14:01
31
’n Kelnerin, twee kelners en ’n kroegman onthou vir Erin Russel en Rachel Anderson. Griessel laat hulle by een tafel sit, saam met hom en Vusi. Hy neem só stelling in dat hy met sy rug na die kroeg toe sit sodat hy die fokken bottels uit sy gesigsveld kan kry, al kan hy niks aan die reuk doen nie. “The others can go home,” gee Galina Federova ’n bevel. “No, I still need them,” want die Carlucci’s-mannetjie moet nog kyk of hy iemand herken. “For what?” Griessel is op pad om hom te vererg, hy wil vir haar sê dit het fokkol met haar te doen, hy hou nie van haar houding nie, maar dit is sy haas om te kry wat hier beskikbaar is wat hom keer. “Let them wait ten minutes,” sê hy kortaf, sodat sy weet sy moet haar nonsens los. Sy sê iets in Russies, skud haar kop en loop uit. Griessel kyk haar agterna. Dan draai hy stadig om, kry sy kop reg en vra vir die jongmense om die tafel: “Wie wil begin?” “Hulle het net hier gesit,” sê een van die kelners, wys na ’n tafel daar naby en vat dan selfbewus aan ’n halssnoer van houtkrale om sy nek. En dan kyk al die kelners skielik op, na die deur agter Griessel. Hy draai ook om. Mat Joubert staan daar, ’n sak wegneemkos in elke hand. “Gaan voort,” sê Joubert, “ek is saam met kaptein Griessel.” Hy loop tot by die tafel, plaas die sakke daarop, haal boksies uit, en skuif dit na Vusi en Bennie. Die reuk van slaptjips wat Griessel se maag laat draai. “Dankie, Mat.” “Thanks, Sup,” sê Ndabeni.
Joubert knik net, trek ’n stoel nader en sluit by die tafel aan. “Dit is senior superintendent Mat Joubert van die Provinsiale Taakspan,” sê Griessel vir die kelners, want hy kan sien hulle is geïntimideer deur sy kollega se omvang. “En hy’s nie ’n geduldige man nie,” lieg hy by. Hy kyk vir die kelner wat eerste begin praat het. “Waar was ons?” Die kelner kyk vir Griessel, dan respekvol na Joubert, sy stemtoon skielik baie opreg. “Die twee, van die foto, hulle het eers net alleen daar gesit. Ek het hulle bedien. Hulle het Brutal Fruit gedrink. Hierdie een, die blondie, sy’t hard gekuier. Die ander een het net so vier of vyf gehad, die hele aand. Nogal snaaks.” “O?” sê Griessel en skeur die sakkie Steers-sout oop en sprinkel dit versigtig oor sy skyfies. “Die backpackers … Gewoonlik drínk hulle almal.” Griessel onderdruk die impuls om na die rye bottels by die kroeg te kyk. “Hoe het jy geweet hulle is backpackers?” vra hy en gebruik die klein plastiekvurkie om ’n paar skyfies te deurboor en haastig na sy waterende mond te bring. Die kelner sit ’n frons van opregtheid op sy voorkop. “Ek werk al twee jaar hier …” Griessel knik met ’n mond vol aartappel en beduie met die vurkie dat die jong man moet aangaan. “Jy ken hulle later. Die tan, die klere, die aksente … En hulle tip nie eintlik nie.” “Hoe laat het hulle gekom?” “Um, seker so … dit was voor my eerste smoke break, seker so nege-uur.” Griessel steek nog skyfies. “Hulle het eers net alleen gesit?” “Vir ’n rukkie. Toe raak die plek vol. Ek doen agt tafels; ek kan nou nie presies sê nie. Hulle het gedans; daar was baie ouens wat kom vra het. En in ’n stadium was daar so vyf by die tafel, pêlle, so het dit gelyk.”
“Seuns of meisies?” “Ek … ouens en girls … Luister, julle moet verstaan …” en hy kyk pertinent na Mat Joubert, “dis chaos hier as dit vol is. Ek onthou die meisies, want hulle was mooi, maar dis omtrent al.” “Jy kan nie die ouens onthou wat by hulle gesit het nie?” “Nee.” “Sal jy hulle herken as jy hulle weer sien?” “Miskien.” Griessel knip die blikkie koeldrank oop. “En julle?” vra hy vir die ander. “Ek het hulle net sien dans,” sê die kelnerin. “My tafels is dáár. Hulle het ’n hele paar keer met mekaar gedans, wat nou nie só snaaks is nie, maar dit het gelyk of hulle baklei, jy weet, hulle het so gestaan en stry en dans. Maar dis al wat ek vir jou kan sê.” Met ’n mond vol dagwood-burger knik Griessel in die rigting van die kroegman. “Hierdie een …” sê hy en identifiseer Erin Russel met ’n tikkende vinger op die foto, “sy het op ’n stadium …” “In ’n stadium,” sê die kelner met die houtkrale. “Wat?” “Dis op ’n oomblik en in ’n stadium.” “Moenie weer begin nie …” “Jy wou sê …” por Griessel aan. “My station is die boonste deel van die kroeg. Daar het twee ouens gestaan en drink, toe kom hierdie een op ’n stadium en sy kom praat met hulle. Ek onthou haar, want ek het gedink dis die tien-gat van die aand, sy’t by hierdie twee …” “Die tien-wat?”
“Dis ’n ding wat ons barmanne doen, ons gee punte, vir die beste bene en gatte en … so. Uit tien uit. En …” “Julle is siek,” sê die kelnerin. “En julle? Toe daai outjie van Idols nou die aand …” Mat Joubert sit sy arms stadig op die tafel, sodat sy breë skouers nog breër raak. Die kroegman byt sy woorde af, kyk skuldig na Joubert. “In elk geval, sy was ’n tien-gat. Die res was ook nie sleg nie. Definitief nege-bene, en ek skat so agt …” “Vertel my van die ouens,” sê Griessel met ongeduld wat in hom opstaan. “Die een … Ek onthou soort van sy gesig, hy was al hier … Die ander een, ek weet nie … Twee pêlle, dink ek, hulle het saam gedrink, nie eintlik gedans nie, net by die kroeg gestaan en praat.” “En toe?” “Toe gaan sê ek vir die ander barmanne ons het ’n tien-gat by die draai. Daar, waar die counter na die muur toe draai. Maar toe ek weer kyk, is sy weg. En toe loop die ouens ook skielik.” “Wag, wag, wag. Sy’t met hulle kom staan en gesels? Waaroor, kon jy hoor?” “Nee, ek … ek het nie so opgelet nie.” “Jy’t vir haar gat staan en kyk,” sê die kelnerin verwytend. Die kroegman reageer nie. “En toe loop sy?” “Ek het haar nie sien loop nie.” “Hoe lank was sy by hulle?” Hy dink eers na. “Kyk, ek het haar nie sien kom nie, ons hardloop rond, hier’s altyd te min barmanne. Ek weet net ek het op ’n stadium vir haar daar sien staan, so vinnig gekyk, toe, ek dink ek het nog drinks gaan haal, toe’t ek die kans om ordentlik te kyk, toe sien ek die gat. Toe gaan sê ek vir Andy-hulle, maar toe ek
vir hulle wil wys, toe’s sy weg. Sy kon vyf minute by hulle gewees het. Of tien …” “Toe hulle uitloop, was hulle haastig?” “Baie.” “Hoe laat was dit?” “Seker so … Dit was láát, ek is nie seker nie, ná een iewers?” Griessel en Vusi kyk betekenisvol na mekaar. “Jy’t die een ou al voorheen hier gesien?” “Ek dink so. Nie baie nie, maar hy’t so half bekend gelyk.” “Beskryf hom vir my.” “Langerige ou …” Sy woorde droog op. “Oud? Jonk? Swart? Wit?” “Nee, ’n wit ou, my ouderdom, omtrent, early twenties, korterige donker hare, vreeslike tan aan hom …” “En die ander een?’ “Swart ou, ook so early twenties …” Die kelner met die houtkrale wys skielik ’n vinger na die deur agter Griessel se rug en sê opgewonde: “Daardie ou was gisteraand by hulle tafel.” Die speurders kyk vinnig om. Daar staan drie SAPS-mense in blou uniforms teen die muur, geduldig, wagtend. Een het ’n groot, deur-skynende vullissak wat langs hom op die vloer lê. Tussen hulle is Oliver Sands en ’n jong man wat Griessel nie ken nie. “Ons weet,” sê Griessel. “Die ander een is die ou van Carlucci’s,” sê Vusi betekenisvol en staan op. Griessel volg hom.
“Is dit my sak van Metro af?” vra Griessel vir die een uniform. “Ja, inspekteur.” “Dis nou kaptein,” sê Mat Joubert van die tafel af. “Genuine, Bennie?” vra Vusi en daar is opregte blydskap in sy stem.
* * *
Voor hy by Adam Barnard se kantoor uitloop, bel Fransman Dekker vir Forensies. “Dis Jimmy,” sê die dun een. “Jimmy, dis Fransman Dekker. Ek wil net hoor, die Barnard-saak, julle het nie dalk sy selfoon iewers gekry nie?” Dit neem vir Jimmy ’n rukkie om kloutjie by oortjie te kry. “Hou net aan …” Dekker hoor vaagweg hoe hy sê: “Arnie, daai musiek-ou wat geskiet is, het ons ’n selfoon gekry?” en dan, vir Dekker: “Nee, Fransman, ons het fokkol gekry.” “Ook nie in sy kar nie?” “Fokkol.” “Dankie, Jimmy.” Dekker staan vir ’n oomblik, nadenkend, maak die kantoordeur haastig oop en loop om na Natasha Abader se lessenaar toe. Sy is op die telefoon, maar as hy by haar is, hou sy die gehoorstuk toe en lig haar wenkbroue vir hom. “Adam Barnard se selfoonnommer?” Sy hou steeds ’n hand oor die gehoorstuk, sê die nommer en hy sleutel dit in sy selfoon in. “Dankie.” Hy loop weg terwyl hy bel. Dit lui. Hy loop in die gang op; miskien lê Barnard se foon in sy kantoor, dan sal hy dit hoor. Maar dit lui net in
sy oor. Lank. En net toe hy dink dit sal na stempos toe oorgaan, hoor hy ’n bekende stem aan die ander kant wat sê: “Hallo?” “Wie praat nou?” vra Fransman Dekker verbaas. “Dit is kaptein Bennie Griessel van die SAPS,” sê die stem. “Kaptein?” sê Dekker, heeltemal uit die veld geslaan oor alles.
* * *
Griessel en Vusi het hoopvol gewag dat die jong man van Carlucci’s iemand in die Van Hunks moet uitken, toe ’n selfoon skerp begin lui, hier by hulle, in die trieng-trieng-luitoon van ’n antieke plaasfoon. Almal het gevat of gekyk na hul fone, tot een uniform gesê het: “Dis hier in die sak.” Griessel het die rommelsak oopgeruk en vervaard begin krap agter die klank aan, tot hy ’n artikel uitgeruk het en die foon daaruit te voorskyn gebring het. Hy het net vir ’n oomblik in ongeloof daarna gestaar voor hy geantwoord het, die begin van ’n aanvanklik surrealistiese gesprek met iemand wat hom klaarblyklik ken, tot die raaisel opgelos is met: “Dis Fransman Dekker wat praat, Bennie. Ek het Adam Barnard se selfoonnommer gebel.” “Jy’s nie ernstig nie.” “Ek is.” “Jy gaan nie fokken glo waar die foon was nie. In ’n swart skoen, wat in ’n sak was met goed wat Metro vanoggend in die strate rondom die kerkhof-moord opgetel het.” “ ’n Skoen? Kan jy sien watter nommer?” Griessel tel die skoen op, kyk binne, maar sien niks nie. Hy draai dit om. Byna afgeskilferde syfers. “Dis ’n tien en ’n half.”
“Dis fokken Adam Barnard se ander skoen, Bennie. En die selfoon was binne-in die skoen?” “Fokken ongelooflik.” “Waar het hulle dit gekry?” “Ek weet nie; jy sal vir Jeremy Oerson by Metro moet bel. Hy’s ’n veldmaarskalk of iets daar.” “Wat is ’n veldmaarskalk?” “Ek bedoel hy’t die een of ander moerse rang. Wag, ek gee jou sy nommer …” Hy begin daarna soek op sy selfoon. “En jy’s nou ’n kaptein?” en Griessel hoor Dekker sukkel om die afguns uit sy stem te hou. Dan sê hy: “Kan jy vir my kyk na sy call history?” “Hou aan,” en dit neem hom ’n rukkie, want hy ken nie dié soort foon nie. “Ek dink hy het gisteraand iemand gebel, so net voor tien,” sê Dekker. Griessel kry eindelik die regte ikoon. NO RECORDS, staan daar. “Hier’s niks,” sê hy vir Dekker.
* * *
Barry se oë is op die afleweringsvoertuig wat op die hoek by Carlucci’s staan terwyl hy sy selfoon antwoord. “It’s Barry.” “Why have they not gone in yet?” hoor hy die grysbaardman se stem. “They can’t go in. There’s a delivery truck at the shop up the street, parked in Upper Orange, and the driver is looking right down the street.”
“How long?” “Well, they’ve been unloading for a while now, so it shouldn’t be long …” ’n Oomblik se stilte op die lyn. “We’re running out of time.” Dit is die eerste keer dat Barry ’n vae kommer in die man se stem hoor. Maar dan is hy weer in beheer: “Call me when it’s clear. I want to know exactly when they go in.” “O.K., Mr B.”
32
Sy snor is so groot soos sy ego, dink Mbali Kaleni. Sy sit saam met Jack Fischer by ’n ronde tafel in sy luukse kantoor. Eenkant is die groot donkerhout-lessenaar, anderkant ’n boekrak wat ’n hele muur bedek, met wat lyk soos regsbronne van hoek tot kant. Teen elk van die ander twee mure is ’n enkele, groot olieverfskildery, landskappe van onderskeidelik die Bosveld en die Boland. Agter die lessenaar is dik, dieprooi gordyne voor ’n venster. Op die vloer is ’n Persiese tapyt, nuut en mooi. Fischer is naby aan sestig, vol bos donker hare in ’n pynlik netjiese kantpaadjie gekam, tussen die grys slape is die verweerde gesig van ’n roofvoël, met die fyn plooitjies van ’n lewenslange roker. En die oordadige, breë snor. Sy vermoed die donkerblou pak klere is op bestelling gemaak; dit pas te goed. Sy hou nie van hom nie. Sy vriendelikheid is vals, vlak en effens uit die hoogte, die soort houding wat baie Afrikaner-mans van ’n sekere ouderdom met swart mense het. Hy het van sy lessenaar af opgestaan met ’n blou lêer in die hand, vir haar gevra om by die ronde tafel te sit en die gesprek begin met: “Waarmee kan ons help?” Ons. En toe sy vir hom sê, het hy eers onder die snor geglimlag. “Ek sien.” En toe: “Ek sou jou verversings aangebied het, maar ek verstaan jy het jou eie gebring.” Sy het nie gereageer nie. “Jy besef ek hoef nie sonder ’n lasbrief die inligting te verskaf nie.” Sy het haar op die duur stoel reggeskuif en geknik. “Maar ons is immers oudlede van die Mag.” Dit was die immers wat haar laat besluit het om hom in sy eie taal ’n ding of twee te wys. “Ons verkies deesdae om na die SAPS as ‘die Diens’ te verwys,” het sy vir hom gesê. “En ek het daarop staatgemaak dat oudlede die
tersaaklikheid en dringendheid van ’n moordondersoek sal verstaan.” Weer het hy die meerderwaardige glimlag onder die snor ontplooi. “Ons verstaan dit maar te goed. Daarom sal jy my volle samewerking kry.” Hy het die lêer oopgemaak. Op die binneblad was die woord “AfriSound” en ’n kodenommer. Sy het gewonder of die rekenmeestertjie van die platemaatskappy vir hom gebel het om te sê die polisie is op pad. Dit op sigself is al interessant. “Ons het bloot die AfriSound-betaling van vyftigduisend rand nagespoor na die rekening van ’n meneer Daniël Lodewikus Vlok, en daarna met ’n subkontrakteur in Bloemfontein geskakel om met meneer Vlok te gaan gesels. Die doel van daardie gesprek was bloot om seker te maak meneer Vlok was bewus van die betaling, en die omstandighede wat daartoe aanleiding gegee het. Ons wou nie ’n on-skuldige man aan ons kliënt uitwys nie.” “Toe rand die subkontrakteur hom aan.” “Hoegenaamd nie.” Verontwaardig. Sy het hom aangekyk met ’n uitdrukking wat sê hy moet nie dink sy is dom omdat sy ’n vrou in ’n manswêreld is nie. “Inspekteur Kaleni,” het hy met sy aangeplakte hoflikheid gesê, “ons is die privaat ondersoekmaatskappy met die vinnigste groei in omset in die land – omdat ons eties en doeltreffend is. Waarom sal ek ons toekoms in die weegskaal plaas deur wederregtelike optrede?” Dit was die oomblik dat sy die vergelyking tussen die snor en die ego tref. “Wat is die naam en kontakbesonderhede van die subkon-trakteur?” Hy was nie lus om dit vir haar te gee nie. Hy het eers na een van sy skilderye gekyk: sy lyftaal was ’n onhoorbare sug. Hy het langsaam opgestaan om die adresboek uit een van sy reuselessenaar se laaie te gaan haal.
* * *
Mat Joubert sê hy sal moet aanstaltes maak, want hy kan sien hulle is besig, en Griessel stap saam met hom deur toe. Toe hulle buite hoorafstand van die ander is, sê die groot speurder: “Bennie, ek gaan na Jack Fischer-hulle toe.” “Jissis, Mat,” sê Griessel. Joubert rol sy breë skouers. “Ek het lank gedink, Bennie. Dit was ’n moeilike besluit. Jy weet: Ek’s ’n poliesman.” “Nou hoekom fokkof jy? Vir die geld?” Hy’s kwaad vir Joubert, want nou’s hy net omtrent die laaste wit man oor in die SAPS, en hulle het so ’n lang pad saamgeloop. “Jy weet ek sou nie net oor die geld geloop het nie.” Griessel kyk weg, na waar Vusi by Oliver Sands sit. Hy weet Joubert praat die waarheid, want Mat se vrou, Margaret, het groot geërf. “Nou vir wat dan?” “Want dis nie meer lekker nie, Bennie. By EGM kon ek bydra, maar nou …” Joubert was bevelvoerder van die Ernstige en Geweldsmisdaad-eenheid en hy was goed, beste baas vir wie Griessel ooit gewerk het. Daarom knik hy nou, vir die eerste keer met begrip. “Ek sit nou al vier maande by die Provinsiale Taakspan sonder ’n portefeulje,” sê Joubert, “sonder mense, sonder ’n posbeskrywing. Hulle weet nie wat om met my te doen nie. En John Afrika het vir my gesê ek moet aanvaar daar gaan nie weer bevordering wees nie; dit is eenvoudig hoe dit werk. En dit sou my nie gepla het nie, maar om net daar te sit … En ek raak nou te oud vir al die ander moeilikheid, Bennie, die nasionale kommissaris se aapstreke, die hele ding rondom die Skerpioene, die raskwotas wat elke jaar anders lyk, alles is verpolitiseer. En as Zuma president word, is die Xhosas uit en die Zoeloes in en dan verander alles weer, nuwe topstruktuur, nuwe agendas, nuwe moeilikheid.” En waar los dit my? wil Griessel met groeiende ontsteltenis vra, maar hy kyk net vir Joubert. “Ek voel ek het my deel gedoen, Bennie. Alles wat ek kon, vir die nuwe land. En wat is my opsies, op my ouderdom, ek’s vyftig in Julie. Daar’s ’n ou wat poliesmanne werf vir Australië; hy’t my kom sien, maar wat wil ek daar gaan
maak? Dis my land dié; ek het die plek lief …” “O.K.,” sê Bennie Griessel, want hy sien die erns op Joubert se gesig; hy onderdruk sy frustrasies. “Ek wou jou net kom sê het.” “Dankie, Mat … Wanneer maak jy klaar?” “Einde van die maand.” “En Jack Fischer? Is hy nie ’n doos nie?” Joubert glimlag. Dis net Bennie Griessel wat só sal vra. “Vir hoeveel dose het ons al gewerk?” Griessel grinnik saam. “Baie.” “Ek en Jack was in die ou dae saam by Moord en Roof. Hy was ’n goeie speurder, eerlik, al het hy die hare en die snor in elke spieël gekam.”
* * *
Om nege minute oor ses in die Wes-Lafayette-oggend kom Bill Anderson haastig met die trappies afgedraf tot waar Connelly, sy prokureur, en die stad se polisiehoof, Dombkowski, by sy vrou in die voorportaal wag. “Sorry to keep you waiting, Chief,” sê Anderson. “I had to get dressed.” Die polisiehoof, ’n groot, middeljarige man met die neus van ’n oudbokser, steek sy hand uit. “I’m really sorry for the situation, Bill.” “Thanks, Chief.” “Shall we go?” vra Connelly. Die twee ander mans knik. Anderson vat sy vrou se hande in syne. “Jess, if she
calls, just stay calm and find out as much as you can.” “I will.” “And give her the number of the captain. Ghree-zil, she must call him …” “Would you rather stay, Bill?” vra Connelly. “No, Mike, I have to be there. I owe it to Erin and her folks.” Hy maak die voordeur oop. Die koue sypel in, sodat sy vrou haar kamerjas stywer teen haar trek. “I’ve got my mobile. You’ll call,” sê hy vir haar. “Right away.” Hulle stap uit op die stoep. Anderson maak die deur agter hom toe. Jess loop na die studeerkamer toe, stadig, diep ingedagte. En dan lui die telefoon. Sy skrik, met ’n hand op haar hart en ’n skielike, hoorbare intrek van haar asem. Dan hardloop sy terug na die voordeur toe, ruk dit oop, sien hoe die mans by die polisiemotor inklim. “Bill!” roep sy, haar stem hoog en bang. Sy sien hoe haar man aangehardloop kom en haas haar na die telefoon toe.
* * *
Rachel Anderson sit by die tafel waar Piet van der Lingen se skootrekenaar en ’n legio bronne die blad vol lê. In haar oor lui die telefoon op ’n ander kontinent – te lank, dink sy, hoekom vat haar pa so lank? “Rachel?” haar ma se stem meteens daar, uitasem, angstig. “Mom!” Onkant betrap; sy het die kalmte van haar pa verwag.
“Oh, my God, Rachel, where are you, are you all right?” Sy kan die onderdrukte histerie en vrees hoor. “Mom, I’m fine, I’m with a very kind man, I’m safe for now ….” “Oh, thank God, thank God. We’ve spoken to the police over there, we’ve spoken to the ambassador and the congressman, it’s going to be all right, Rachel. Everything’s going to be … Bill, she’s safe, she’s with somebody, a kind man, Rachel, this is such wonderful news, I love you honey, do you hear me, I love you so very much.” “I love you too, Mom …” “Now, I’m going to put your father on, listen very carefully, he’s going to give you a number to call. Promise me you will do exactly what he says, Rachel, please.” “I promise, Mom. I’m O.K., I know this must have been really tough for you …” “Don’t you worry , we are going to take care of all this, honey, it’s so great to hear your voice, I can’t believe it, here’s your father, I love you, you hear, I love you very much.” “Love you too,” sê Rachel Anderson en glimlag deur die skielike trane van verlange en dankbaarheid, en dan hoor sy haar pa se stem: “Honey? You’re O.K.?” “Yes, Dad, I’m O.K., I’m with a very kind gentleman, I’m sitting in his house, I’m perfectly safe.” “I can’t begin to tell you what a great relief that is, honey, that’s really great news,” haar pa se stem rustig en kalm. “We’ve been pretty busy on this side, trying to get you help, I’ve spoken to the Consul General in Cape Town, they are standing by, I’m going to give you their number, but first, I’m going to give you the number of a police captain. Now, I know you said something about the police when you last called, but this man was recommended by their top structure, and I spoke to him personally. He’s in charge of your case, and he gave me his word that he’ll make sure you are safe, O.K.?” “Are you sure?”
“Absolutely, even their Secretary of … their Police Minister knows about you, the Consul General is talking to them, so this is very high level, nothing can happen to you. So can you take down the numbers?” Sy kyk oor die lessenaar heen, sien die agterkant van ’n geel potlood onder ’n dokument lê, trek dit uit, draai een van die getikte folio’s langs haar om. “I’m ready,” sê sy met vasberadenheid en onuitspreeklike verligting; die nagmerrie is amper verby.
* * *
Mbali Kaleni het op die Parade geparkeer; sy stap in die helder son deur die blomverkopers se steeg, verby die ou poskantoor, tussen die stalletjies wat enigiets van skoene tot pakkies neute verkoop. Sy oorweeg dit vir ’n oomblik om van die kasjoes met die suikerkraaklagie te koop, maar dan dink sy nee, sy wil gou in Bo-Oranje uitkom, net weer daar gaan staan by die huis … Sy versnel haar pas, haar groot, swart handsak wat swaai met elke tree.
* * *
“Just explain one thing to me,” sê Griessel vir Oliver Sands. Hy staan; Sands sit by die tafel, steeds grootoog, asof al die aandag te veel is vir hom. “Why did the girls bring rucksacks with them to the club?” “Those bags …” sê Sands. “They never went anywhere without them. It’s a girlthing, I think. You know, make-up and stuff …” Griessel dink aan die sak wat Oerson aangebring het. Klein, kompak. Dit maak sin. Hy sal die plastiekrommelsak moet deursoek, maar nie hier nie; hy sal moet terug Caledonplein toe.
* * *
“Dis Jeremy,” antwoord Oerson sy selfoon en Fransman Dekker kan hoor hy’s bruin en hy’s tien teen een in ’n motor. “My broe’, my naam is Fransman Dekker, ek’s SAPS, hoe’s dit julle kant?” want Griessel het gesê die Metro-offisier is ’n “moeilike kalant”. “Nee, dinge werk met springe, by jou?” “Ok só, my broe’, luister, daar was hierdie moerse surprise in daai sak goed wat jou mense gekry het, ’n skoen, number ten and a half, as ek net kan uitvind wa’ hulle dit opgetel het.” “No idea, my broe’, maar ek sal lat die mannetjies inkom en vir my sê.” “Many thanks, it’s a murder case, ek sal moet roer, jy weet hoe dit is.” “Ek weet. Gee my net tien minute, I’m sort of tied up at the moment.” “Jy sal my bel?” “Daatlik, my broe’.” Dekker lui af en klop aan die deur van die rekenmeester, Wouter Steenkamp. Hy kry nie antwoord nie, maak die deur oop. Steenkamp is op die foon; hy sê: “… fokken polisie moet help, anders sal ek ’n ander plan moet maak.” Hy sien vir Dekker, sê oor die foon “Hou aan,” dan vir Dekker: “Die koerante staan ons ontvangs daar onder vol; julle sal moet help om te beheer.” “O.K.” “Hulle sal help,” sê hy in die gehoorbuis. “Goed, bye.” Hy kyk met verwagting na Dekker. “Ek sal vir hulle gaan sê hulle moet buite wag. Die beste gaan wees om die voordeur te sluit.”
“Dis ’n gemors,” sê Steenkamp. “Bly net hier; ons sal weer moet praat,” sê Dekker. “Waaroor nou?” “Nuwe inligting,” sê Dekker net voor hy uitgaan om die media te gaan beheer. “Daar’s mense wat sê julle verneuk hulle.”
* * *
“Your people can go,” sê Vusi vir Galina Federova. “So you will not arrest anybody.” Sarkasties, sigaret tussen die vingers. “No. They have helped a lot.” Griessel dink Vusi is te hoflik; hy moet vir die fokken uitlander sê hy arresteer haar gat as sy haar wil snaaks hou. Hy besef sy geduld is dun, hy wil hier uitkom, weg van die drankreuk en die bottels, die fokken lus lê te vlak in hom. Hy weet nie wat de fok hy nou gaan doen nie, hulle weet nou die meisies was hier, hulle weet daar was gesprekke en argumente. Hulle weet twee mans het kort ná die meisies vertrek, hulle weet van die jaagtog af in Langstraat, maar dit alles help net mooi fokkol, want dit spoor haar nie op nie. En dan lui sy selfoon en hy pluk dit ergerlik uit en hy sê: “Bennie Griessel.” “Ek was by Alexa Barnard, Bennie,” sê dok Barkhuizen. “Is sy O.K., dok?” “Sy’s vol medikasie, maar jy weet wat vir haar voorlê. Sy’s ’n sterk vrou, Bennie. Mooi ook, ek kan sien hoekom jy so besorg is.” “Fokkof, dok.” En hy hoor die luitoon in sy oor van nog ’n oproep wat inkom terwyl Barkhuizen sy laggie aan die ander kant gee. “Sy’t gesê as jy tyd het, moet jy met haar kom praat. Iets oor haar man …”
“Dok, ek het nog ’n oproep, dit gaan ’n bietjie dol, dankie dat jy haar gaan sien het. Ons praat weer,” sê Griessel en neem die ander oproep. Griessel sê sy naam en ’n vrou met ’n Amerikaanse aksent vra: “Is that Captain Benny Ghree-zil?” en hy dink dis wat ek nou net gefokken sê het en hy antwoord: “Yes.” “My name is Rachel Anderson. My dad said I should call you.” Die naam brand deur hom, deur die teleurstelling oor Mat Joubert, deur die frustrasie van die dag en die dranklus, sodat sy lyf ruk en hy sê: “Jissis,” en dan: “Yes, yes, are you safe, where are you?” die adrenalien en die verligting wat deur hom spoel, hy gee twee treë tot by Vusi se skouer, lê ’n dringende hand daarop en as sy swart kollega omkyk, sê hy: “Rachel Anderson,” en wys met ’n vinger na die selfoon. Vusi se hele gelaat verhelder. “Yes, I’m with a Mr Pete Vander Liengen, the address is …” en Griessel hoor ’n man op die agtergrond wat iets sê. Dan weer Rachel se stem: “ … number six Upper Orange Street … In Orainisiegh?” “Yes, yes, Oranjezicht, six Upper Orange, just stay there, I’m on my way, don’t open the door for anybody, I will call when I get there, please, Miss Anderson,” sê hy pleitend. Liewe Here, maar dis goeie nuus. Griessel wys vir Vusi hulle moet loop, hy drafstap by die deur uit, in die gang af, na die steeg toe, al hoe vinniger, hoor Vusi se sole op die vloer agter hom. “I’m not going anywhere,” sê Rachel Anderson en daar is ’n vrolikheid in haar stem, asof sy uitsien na sy koms en Bennie Griessel is by die agterdeur, uit in die steeg en hy hardloop so vinnig as wat hy kan.
* * *
Barry staan agter op sy bakkie en sien hoe die afleweringsvoertuig se bestuurder inklim en die vragmotor se enjin aansit. Dan kyk hy na regs, waar die regop, kordate silwer Peugeot Boxer-paneelwa staan en wag. Sy selfoon is in sy swetende hand. Hy druk die bel-knoppie en hou dit teen sy oor.
“Yes?” vra die man met die grys baard. “The truck is leaving.” “Good. Can you see the van?” Barry kyk na die vuil, stowwerige Peugeot. “Yes, they’re moving.” “Jay is going to call Eben, they will cover the back door. Then he’ll turn the van around, come back to the front gate in Upper Orange, because he wants the nose to point in the direction of the city. When they get out and go through the front gate, you tell me.” “Right. Stand by.”
33
Piet van der Lingen staan langs haar by die groot werkstafel. Sy sê: “The police guy is on his way, Captain Benny Ghree-zil,” en die ou man sien die gedaanteverwisseling; daar is skielik blymoedigheid in haar oë, die spanning weg. Hy glimlag met sy spierwit kunstande en hy sê: “We will have to teach you proper Afrikaans pronunciation – it’s Griessel.” “Gggg …” sê sy, asof sy slym agter uit haar keel wil kry. “That’s it,” sê hy. “And the ‘r’ is hard too. G-riessel.” “Ghe-riessel.” “Almost. Ggg-rrriessel.” “Griessel.” “Very good,” en hulle lag saam en sy sê: “How will I ever be able to thank you?” “For what? For brightening an old man’s day?” “For saving my life,” sê sy. “Well, when you put it that way … I demand that you come and have lunch again, before you go home.” “I would love to …” En dan sien sy hy kyk op en weg, na die venster toe, met skielike kommer oor sy gelaat. Haar oë volg syne en sy sien hulle, vier wat by die tuinpaadjie inkom en sy sê: “Oh, my God,” want sy ken hulle. Sy kom orent in die stoel. “Don’t open the door!” Die angs is terug in haar stem. “They want to kill me – they killed my friend last night!” Sy hardloop ’n paar tree in die gang af, doodloopstraat. Sy hoor hoe iemand hardhandig aan die voordeurknop ruk, vlieg om, paniek in haar.
Dan breek hulle die loodglas van die voordeur, sy hardloop weer deur die voorportaal, op pad kombuis toe, daar’s ’n agterdeur. ’n Hand kom deur die opening, om die voordeur van binne oop te sluit. “Come!” skree sy vir Van der Lingen. Die ou man staan vasgenael, asof hy hulle wil keer. “No!” gil sy. Die deur gaan oop. Sy moet weg, hardloop deur die kombuis, hoor ’n skoot in die voorportaal, sy maak ’n geluid van vrees, sy is by die agterdeur, haar oog sien die lang vleismes in die droograk, sy gryp dit, ruk die agterdeur, dis oop, sy’s buite, skielike skerp son. Daar’s twee tussen haar en die klein hekkie in die hoek, hulle kom aangestorm, swart en wit, vasberade gesigte. Dringende voeteval agter haar, net een keuse, sy hardloop na die een voor haar, die witte, sy arms uitgestrek om haar te vang. Sy ruk die mes skielik op, met haat en weersin en hoë, dun angs. Sy steek na die bors, hy wil wegruk, te laat, die mes deur sy keel, sy oë wys ongeloof. “Bitch!” skree die swarte, slaan haar met die vuis, tref haar oogbank, ’n kaskade van lig ontplof in haar kop, sy val na regs, op die gras, hoor hul uitroepe, sy skarrel, wil regop kom, hulle is op haar, een, twee, drie, meer, nog ’n vuis teen haar gesig, arms wat haar vaspen, hulle maak kort, brutale geluide, sy sien ’n arm, hoog gelig, iets bonkig en metaalagtig wat na haar gesig swaai en dan die donker.
* * *
Griessel jaag. Hy het die blou draailig uit die kattebak gehaal, by die sigaretaansteker ingeprop, dit bo-op die instrumentpaneel gesit, maar die fokken ding werk nie. Toe ry hy, die Opel se gevaarligte flikker, maar dit help nie veel nie, hy lê op die toeter, hy sê vir Vusi “Ek moes ’n kar met ’n fokken sirene gevat het,” op in Langstraat, van rooi verkeerslig na rooi verkeerslig, elke keer moet hy spoed verminder, sy arm by die venster uitsteek en wild waai vir kruisende verkeer. Vusi doen dieselfde aan sy kant. “Sy behoort darem veilig te wees,” sê Vusi, versigtig, die ewige fokken diplomaat. Griessel weet hy wil sê: “Ons hoef nie so wild te jaag nie; sy’t mos
gesê sy’s by ’n goeie man.” “Sy behoort,” sê hy en waai wild, blaas die toeter lank, “maar ek kan nie ’n fokop bekostig nie.” Hy gee vet; die Opel se bande huil.
* * *
Mbali Kaleni ry rustig op in Annandale, die verkeer is dik hier voor by die afdraai na Bo-Oranje. Sy sit haar flikkerlig aan om van bane te verwissel, wag geduldig, maar niemand gee haar ’n gaping nie. Sy skud haar kop. Kaapse bestuurders; in Durban sal dié soort ding nooit gebeur nie. Eindelik raak die regterbaan se stroom dun en sy swaai, hou die flikker aan. Die verkeerslig is rooi.
* * *
Dit lyk soos ’n byenes, dink Fransman Dekker, dit zoem, die mikrofone is angels, en as hulle jou kan steek … Hy staan op die trap, roep, hard: “Aandag, asseblief.” Die swerm sak op hom toe, daar moet twintig mense wees, die vrae kom, die angels na hom toe uitgesteek met desperate arms, hy hoor net snedes: “… Iván Nell hom geskiet het?” “ … wie bid die Geysers?” “… Alexa Barnard probeer vermoor?” “Is Jos Geyser in hegtenis?” “… Xandra dood?” Hy hou sy regterhand in die lug, palm vorentoe, hy laat sak sy kop om oogkontak te vermy en hy staan net, want hy weet hulle sal die een of ander tyd moet stil raak.
* * *
Kaleni sien hulle. Sy sien eers die paneelwa voor die huis, dink vir ’n oomblik dit is die hansworse van Forensies, sy kan hulle nie verdra nie, ergernis, wat doen hulle nog hier? ’n Beweging, as sy nader ry, anderkant, Belmontstraat, mense wat iets dra. Wat gaan hier aan? Nog nader, daar’s vier van hulle, haastig, elkeen wat ’n stuk van iets vashou, hulle beweeg soos ’n krap op die sypaadjie, maar die hout-heining verberg hul vrag. Sy sien hulle is op pad na die paneelwa wat in Bo-Oranje staan. Eienaardig. Dis ’n mens wat hulle dra, sy sien dit as hulle om die hoek en agter die houtheining uitkom, hulle skarrel na die paneelwa. Haar oë op hulle, dit is die meisie, leweloos, hulle beklem haar arms en bene. Mbali versnel en haar hand reik na haar heup, druk die leer-lus van haar dienswapen af, swaai oor die pad en pyl op die voorkant van die paneelwa af. Sy ry te vinnig, sy gaan nie betyds stop nie, trap rem, hard. Voor haar klim een uit die paneelwa uit, bestuurder se kant, pistool met knaldemper in die hand. Die klein bande van die Corsa skree, die kar trek sywaarts, sy gaan die randsteen tref, sy stoei met die stuurwiel, kom tot stilstand, net ’n meter van die Peugeot af, die Corsa dwars, sy wil na die registrasienommer kyk, instinktief, CA 4 … Sy sien hoe hy ’n vuurwapen op haar rig, die windskerm kry ’n ster, die koeël klap teen metaal iewers agter haar vas, sy wil platduik, maar haar veiligheidsgordel hou haar vas. “uJesu,” sê sy sag en strek ’n hand om dit los te knip, Hy skiet haar, sy voel die verskriklike slag in haar lyf, maar die band is los, sy gaan lê plat, regterhand kry haar pistool uit, sy lig dit, trek drie skote blindelings deur die ruit af, die pyn is ’n aardbewing wat stadig en onkeerbaar deur haar trek. Sy kyk na die wond. Gat onder haar linkerbors, die bloed, ’n stroompie na ’n plas op die bekleedsel, sy, wat die kar altyd silwerskoon hou, trek nog skote af, kom vinnig orent. Die seer skeur haar middellyf. Kyk weer vinnig deur die
voorruit. Hy is nie daar nie, beweging, hier staan hy, net langs die deur, pistool in twee hande, dodelike lang demperloop op haar oog gerig, sy sien die ding om sy nek, ’n soort Afrika-hanger, krale wat ’n woord spel, sy ruk haar kop terug, swaai haar vuurwapen, maar met die sekere wete van dood, ’n vlietende teleurstelling, dit was so kort, dié lewe, sy sien die vinger wat die sneller so doelgerig trek.
* * *
Griessel blaas sy pad deur die verkeer met ’n toeter oop om uit Annandale in BoOranje op te draai, ’n ou in ’n fokken geel Humvee wat hom die middelvinger gee, twee motors wat skerp moet rem as hy oor die kruising jaag. Vusi hou vas aan die gryphandvatsel bo die deur, woordeloos. Bennie gee vet, versnel uit die draai, hulle is amper daar, ’n mal haas in ’n groot, silwer paneelwa kom van bo af aangejaag in die middel van die pad, hy blaas weer op die toeter, swaai verby, sien ’n glimps van die bestuurder se gesig, jong doos, verbete houding, dan kyk hy na die straat voor hom, skielik leeg en oop. Hy gooi een rat terug, trap die versneller plat, die enjin kerm, verwissel ratte, op met die bult, dis sy wêreld dié, sy woonstel net een blok weg in fokken Vriendestraat, kak naam, hy dink nog steeds so, De Waalpark aan die regterkant, dan sê Vusi: “Dis net daar voor,” hulle kom oor die kruin, hulle sien gelyk die Corsa, sê nie ’n woord nie, weet as dit só skeef staan, is iets nie reg nie. Die bakkie ry reg voor hom in, van die linkerkant af, by ’n huis se oprit uit, agteruit. Griessel trap rem, die Opel se neus duik, rubber skree en rook, hy swaai na links, wiele teen die randsteen. “Fok,” sê hy, ruik die rubber, pluk die Opel terug, net-net verby die Toyota-enkelkajuit se neus, sien die mannetjie agter die stuur, groot, wilde skrikoë. Hy kyk vir die Corsa, is die ruit stukkend? Hy swaai oor die pad, stop agter die klein wit motor, spring uit, hoor hoe die bakkie wegjaag, stad se kant toe, kyk vlugtig in daardie rigting, die fokken doos. Hy sien die huisnommer op die houthekkie. Ses. Koeëldoppies, hy ruik kordiet. Hier’s moeilikheid, koeëlgate in die voorruit en die bestuurder se venster, daar’s iemand agter die stuurwiel, fok, fok. “Dis Mbali,” roep Vusi, wat die ander deur oopruk.
Griessel sien haar, kop teen die bors, bloed teen die kopstut. Hy pluk die deur oop. “Jissis,” sê Griessel, wil sy vingers teen haar nek druk vir ’n pols. Dit is glad van die bloed. Hy sien die wond, onder haar oor, stukkies kakebeen, wit brokkies, polsende aar wat dik rooi vloeistof uitpomp. “Bel ambulans! Sy leef!” Hy skree harder as wat hy wou, sy hart klop. Hy trek haar eers aan die skouer, liggies, tot hy haar omgedraai kry, haar rug na hom toe, steek hande onder haar arms in, voel nog bloed laer af. Hy trek haar versigtig uit, lê haar op die sypaadjie neer. Vusi kom omgehardloop, selfoon in die hand. Twee wonde, die een langs die kop bloei die ergste. Hy staan vinnig op, sy hand soek sy sakdoek, kry dit, hy buk by Mbali Kaleni en hy druk die sakdoek teen die gat. Hy hoor hoe Vusi praat, dringend, oor die foon. Ruil hande op die sakdoek om, kry sy eie selfoon, hoor ’n kar wat om die hoek gaan, in Belmont, stink spoed, hy kry nie omgedraai nie, sien net die stert, iets. Hy kyk na Kaleni, sy gaan dit nie maak nie, ambulans gaan te stadig wees. “Help my,” sê hy vir Vusi. “Ek vat haar self.” Vusi kniel hier by hom, sy stem kalm. “Bennie, hulle is op pad.” “Jissis, Vusi, is jy seker?” terwyl hy na sy selfoon kyk, die nommer van Caledonplein soek. “Hulle weet dit is ’n polisievrou. Hulle kom.” Griessel druk die sakdoek stywer. Mbali Kaleni beweeg, ’n rukking van die kop. “Mbali,” sê hy, wanhopig. Sy maak haar oë oop, kyk ver, dan na hom. “Die ambulans kom, Mbali,” hy wil haar bemoedig: “Jy gaan dit maak.” Sy maak ’n geluid. “Lê net doodstil; hulle sal nou hier wees.” Vusi neem Mbali se hand in syne. Hy praat saggies met haar in ’n swart taal en Griessel sien die klein Xhosa se kalmte en hy dink Vusi is nie hardegat nie, maar
hy’s sterk. Mbali wil iets sê, hy voel die kakebeen onder sy hand beweeg, hy sien die bloed wat by haar mond uitkom. “Nee, nee, moenie praat nie; die ambulans gaan nou hier wees.” Hy kyk na die huis toe. “Vusi, jy sal moet gaan kyk wat daar binne aangaan.” Die swart speurder knik, spring op en hardloop. Griessel kyk na Mbali. Haar oë is op hom, pleitend. Hy hou die sakdoek styf teen haar nek, besef hy het nog die selfoon in die ander hand. Hy bel, stasie toe, hulle het nog mense nodig. Dan gaan Mbali Kaleni se oë toe.
34
Sy is eers net bewus van die geraas, stemme wat roep, ’n enjin se hoë revolusies. Dan voel sy die pyn in haar gesig en sy wil ’n hand daarheen uitstrek, maar sy kan nie. Dan die sensasie van beweging, van wanbalans, ’n voertuig wat skerp draai, hard versnel. Dan onthou sy alles en sy ruk. “The bitch is waking up,” sê een van hulle. Sy wil haar oë oopmaak, sy wil sien, sy kan nie. Een oog toegeswel, seer, die ander wil nie fokus nie, ’n wasige beeld – vier van hulle hou haar vas, die drukking op haar arms en bene te veel, te swaar, pynlik. “Please,” sê sy. “Fuck you,” die woorde met haat gespoeg, vlokkies speeksel teen haar gesig vas. ’n Selfoon lui skril. “It’s the Big Guy,” sê ’n stem wat sy ken. “Fuck,” nog ’n bekende stem. “Tell him.” Sy draai haar oog, maar kan hulle nie sien nie, net die vier wat haar vashou, hulle kyk nou almal vorentoe. “Jesus. O.K.” En dan: “Mr B, it’s Steve. The fucking bitch stabbed Eben … No, he was with Robert, on the back door … It’s bad, chief, he’s going to die if we don’t get him to … I know, she stuck him in the throat with a fucking knife, the blood … It’s your call, chief … No, no, he’s with Rob in the bakkie, you’ll have to call him … O.K. Yes, it’s here … No … O.K., hang on … The boss wants to know what’s in the bag …” Die een wat haar been vasdruk, laat skielik los. “Here, take it,” sê hy en dan skop sy, met al haar krag, tref hom iewers. “Fuck!” ’n Harde slag teen haar kop, haar been weer skielik vasgedruk en sy
skree, in frustrasie en pyn en woede en vrees en sy ruk, haar arms en bene, om los te kom, maar dit help niks nie.
* * *
Vusi kom aangehardloop, Griessel kan sy haastige voetstappe hoor. “Bennie, daar is ’n ou man daar binne. Hy’s geskiet, maar hy leef.” “ ’n Ou man?” “Ja, wond in die bors, ek dink dis deur die long.” “Niemand anders nie?” “Niemand.” “Fok.” Die sirene van die ambulans is skielik duidelik hoorbaar.
* * *
“You do that again, I’ll shoot you in the fucking leg, you hear me?” Die spoegprater se gesig teen hare, sy gesig vertrek, sy stem waansinnig. Sy maak haar oë toe, maak haar lyf slap. “It’s not in here,” sê Steve, voor. “Jesus,” sê Jay. “Mr B, it’s not in the bag … Yes, I’m positive.” ’n Lang stilte, net die geluid van die voertuig wat nou stadiger ry, meer egalig. Dan: “There was no time, and then
this fucking fat cop turned up, but Jay shot her, she’s a goner … No, I’m telling you, there was no time … O.K… . O.K… .” Geluid van ’n selfoon wat toeklap. “The Big Guy says take her to the warehouse.”
* * *
As hy die laaste lid van die media by die deur uitkry en dit van binne sluit, hoor Dekker Willie Mouton se stem agter hom: “Die fok weet, julle sal iets moet doen, só kan dit nie aangaan nie.” Mouton staan op die trappe, hande in die sye, gesig baie ongelukkig. “Ek gaan nou bel, ons OB-mense sal kom help,” sê Dekker. “OB?” “Openbare Betrekkinge.” “Maar wanneer maak jy klaar?” “Sodra ek al my vrae gevra het,” sê Dekker en klim teen die trappe op, verby Mouton wat omdraai en agterna kom. “Hoeveel vrae wil jy nog vra? En jy praat met my personeel sonder dat ’n regsgeleerde by is. Dit kan nie so aangaan nie – met wie wil jy nou praat?” “Met Steenkamp.” “Maar jy het al met hom gepraat.” Hulle loop deur die ruim sit-area. Dekker steek vas, sy gesig naby Mouton s’n. “Ek wil weer met hom praat, Willie. En ek het die reg om met jou hele fokken personeel te praat sonder dat jou prokureur by is en ek gaan nie weer hierdie dans met jou dans nie.” Die rooi styg uit Mouton se nek op, die adamsappel spring op en af, asof daar te veel woorde daaragter opgestapel is. “Wat het Iván Nell vir jou gesê?”
Dekker loop weg, na die gang toe. Weer kom Mouton, twee treë agter. “Hy’s nie meer een van ons kunstenaars nie, hy’t niks hier te sê nie,” maar Dekker ignoreer hom, loop na Steenkamp se kantoor, klop nie, maak die deur oop, wil dit toemaak voor Mouton inkom, maar dan sien hy die fokken lyksbesorger van ’n regsgeleerde sit daar, oorkant die rekenmeester. “Kom sit, inspekteur,” sê Groenewald met sy besadigde stem.
* * *
Die paramedici hardloop met die draagbaar van die voordeur af. Griessel hou die hekkie vir hulle oop, dan draf hy saam. “Gaan sy dit maak?” “Weet nie,” sê die voorste een en hou die plasmapak na Griessel toe uit. “Kan jy vashou as ons inlaai, hou net hoog.” “En die omie?” Griessel vat die plastiek vol deursigtige vog; Vusi hou die een ambulansdeur oop, want die wind waai dit toe. “Ek dink so,” sê die paramedikus. Hulle lig die ou man in die draagbaar op, stoot hom langs Mbali Kaleni in, twee figure onder ligblou komberse wat doodstil lê. Die een paramedikus hardloop om na die bestuurder se deur, maak dit oop, spring in; die ander spring agter in. “Maak toe,” sê hy en Griessel en Ndabeni vat elkeen ’n deur, klap dit toe. Die ambulans se sirene begin loei, dit trek weg, op in Bo-Oranje, maak ’n u-draai voor die groeiende skare net onder Carlucci’s, en kom dan verby, net wanneer die eerste van ’n konvooi patrollievoertuie oor die boggel van die heuwel te voorskyn kom. “Vusi,” sê Griessel hard om bo die sirenes hoorbaar te wees, “laat hulle die strate toemaak en die mense weghou. En ons soek nie ’n uniform nader as die sypaadjie nie.” “O.K., Bennie.” Griessel haal sy selfoon uit. “Ons sal vir Forensies ook moet laat kom,” en hy gaan staan en hy kyk oor die toneel heen – Mbali se motor, die koeëldoppies wat
gesaai lê, die voordeur, oop, met die gebreekte glas, daar binne is die ou man geskiet, iewers het hulle vir Rachel Anderson gegryp … Dit gaan ure neem om alles te prosesseer. Ure wat hy nie het nie. Die mense wat haar gejaag en gejag het, het haar gekry. Hoe lank sal hulle haar laat leef? Hoekom het hulle haar nie hier doodgemaak nie, soos vir Erin Russel, hoekom het hy en Vusi nie net haar lyk hier gekry nie, dit is die groot vraag. Maar een ding weet hy, hy het hulp nodig, hy moet tyd wen, tussen hom en Vusi is daar nie genoeg mannekrag nie. Hy bel Mat Joubert se nommer. Hy weet John Afrika gaan nie daarvan hou nie. Maar in die groter geheel van sake is dit die minste. “Bennie,” herken Joubert sy nommer. “Mat, ek het jou nodig.” “Dan kom ek.”
* * *
Die rekenmeester Wouter Steenkamp lag en Willie Mouton, wat met sy lang, skraal lyf teen die muur staan, maak ’n hoongeluid. Die prokureur Groenewald skud sy kop meewarig, soos ’n man wat nou alles gehoor het. “Nou hoekom is dit so snaaks?” vra Fransman Dekker. Steenkamp leun terug op sy troon agter die rekenaar en druk vingerpunte teen mekaar. “Dink jy Iván Nell is die eerste sanger wat sê hy word gerook?” Dekker haal sy skouers op. Hoe sal hy weet? “Dis elke keer dieselfde storie,” sê Willie Mouton. “Elke keer,” sê Steenkamp en vleg die vingers van sy twee hande inmekaar, draai die palms na voor en strek, sodat sy kneukels klap. Hy lê sy kop terug teen
die stoel se rugkant. “As hulle begin goed geld maak.” “Daai eerste tjek, dan kom hulle hier in en dis ‘dankie, julle, jislaaik, ek het nog nooit só baie geld gesien nie’.” Mouton se stem is aansitterig gemoduleer soos hy vir Nell namaak. “En dan’s ons die heroes en hulle is so dankbaar …” “Maar dit hou nie,” sê Steenkamp. “Hulle doen dit nie vir die kuuuns nie.” “Dis geld wat praat.” “En hoe meer hulle kry, hoe meer wil hulle hê.” “Want dis ’n grênd kar en ’n moerse huis en alles wat oop- en toemaak, dan’s dit die strandhuis en die sound equipment-bussie met ’n helse foto van jou op, en alles moet groter en beter wees as Kurt of Dozi of Patricia s’n, en om dit alles aan die gang te hou, kos ’n kakhuis vol geld.” Groenewald knik stadig, instemmend. Steenkamp lag weer: “Twee jaar, pappie, dan kom sit hulle hier en hulle sê: ‘Maar waarvoor is dié aftrekking en hoekom is daai so min,’ dan’s ons van hero na zero, dan het hulle vergeet watse armgatte hulle was toe ons hulle geteken het.” Sy hande is nou op sy skoot, die regterhand se vingers wat sy trouring draai. “Iván Nell sê …” begin Dekker. “Weet jy wat was sy naam?” vra Mouton, kom skielik van die muur af weg en loop deur toe. “Sakkie Nell. Isak, dis waar die I van Iván vandaan kom. En jy moet tog net nie vergeet van die strepie op die ‘a’ nie.” Mouton maak die deur oop. “Ek gaan vir my ’n stoel haal.” “Iván Nell sê hy het julle syfers vergelyk met wat hy op compilations gemaak het, by independent ouens.” Dié keer maak selfs die prokureur ’n geluid in die koor van geaffronteerde klank. Steenkamp sit vorentoe, reg om te praat, maar Mouton sê: “Wag, Wouter, hou jou punt, ek wil dié grap nie mis nie,” en hy loop uit in die gang.
* * *
Bennie Griessel staan in die ingangsportaal, die dringendheid in hom, hy wil nie nou te veel by hierdie deel van die ondersoek betrokke raak nie, hy moet fokus op Rachel, hoe om haar terug te kry. Hy trek rubberhandskoene aan, kyk vlugtig na die bloed op die mooi silwer-enblou tapyt waar die ou man geskiet is, die skerfies gebrandskilderde glas op die vloer. Hy sal haar pa moet bel. Hoe de fok het hulle haar gekry? Hoe het hulle geweet sy was hier? Sy het uit hierdie huis uit gebel, My name is Rachel Anderson. My dad said I should call you. Sy het met haar pa gepraat en toe met hom. Hoe lank het dit hom gevat om tot hier te kom? Tien minute? Nege, agt? Op die heel meeste twaalf. Hoe kon hulle in twaalf minute tot hier ry, vir Mbali skiet, vir die ou man, vir Rachel wegdra? Hoe gaan hy dit alles aan haar pa verduidelik? Die man wat vir hom gevra het: Tell me, Captain: Can I trust you? En hy het gesê: “Yes, Mr Anderson. You can trust me.” Then I will do that. I will trust you with my daugher’s life. Hoe het hulle haar gekry? Dis die vraag, die enigste wat saak maak, want die “hoe” sal die “wie” gee, en die “wie” moet hy uitvind. Nou. Het sy nog iemand gebel? Dis die plek om te begin. Hy sal moet uitvind, hy trek die selfoon uit sy sak uit, wil Telkom bel. Nee, bel eers vir John Afrika. Fok. Hy weet wat die streekkommissaris: Speurdienste en Misdaadintelligensie gaan sê. Hy kan al die stem hoor, die ontsteltenis. Hoe, Bennie? Hoe? Griessel sug, vinnig, vlak en haastig. Daardie fokken gevoel van vanoggend, dat hier moeilikheid kom …
En die dag is nog lank nie verby nie.
* * *
Mouton stoot sy luukse leer-lessenaarstoel tot langs Groenewald, gaan sit en sê: “Let the games begin.” “Kom ek sê jou net eers van ’n compilation,” sê Steenkamp, leun oor die lessenaar, vat ’n potlood en draai dit tussen sy vingers. “Die een of ander haas besluit hy wil geld maak uit Valentine’s Day of Krismis of iets, hy bel ’n paar mense en sê: ‘Het jy vir my ’n song?’ Daar’s nie ateljeekoste nie, nie ’n sent nie, want hy kry die recording klaar. Dit maak ’n moerse verskil, want al wat hy moet doen, is om die album so ’n bietjie te bemark, kap gou ’n paar TV-ads wat hy iewers vir ’n ou met ’n Apple en Final Cut gee om aanmekaar te slaan, so hy betaal eintlik net vir die lugtyd en hy gooi dit op 7de Laan se vyftiensekondeslots vir drie dae en dan koop die anties dat dit klap.” “Hy doen sy boeke sommerso agter op ’n sigaretboks,” sê Mouton geïrriteerd. “Geen overheads nie. Hier sit ons, met ’n -afdeling en ’n finansiële afdeling en ’n marketing & promotions-afdeling, ons dra veertig persent van ’n distribusie-arm, want ons is ’n full-service-shop, ons staan by ’n kunstenaar vir die lang termyn. Ons bou ’n brand, ons verkoop nie net ’n paar CD’s nie,” sê Steenkamp. “Sê hom van RISA en NORM,” sê Mouton. Steenkamp trek ’n vel A4-papier uit die drukker langs hom en maak ’n sterretjie met die potlood, skryf langsaan RISA. “Recording Industry of South Africa …” “Fokken mafia,” sê Mouton. “Hulle reël darem die SAMA’s,” sê Groenewald en Mouton snork, minagtend. “Hulle vat 25 sent vir elke CD wat ons verkoop, want hulle …” en hy maak aanhalingstekens met sy vingers, “‘beskerm ons teen piracy’.”
“Ha,” sê Mouton. “Nou dink jy die independent wat die compilation maak, gaan score hou? Dink jy hy gaan op elke CD betaal? Nie maklik nie, want dis werk, dis ’n schlepp, dis koste en dis wins.” Steenkamp krap nog ’n sterretjie, skryf NORM op die papier. “NORM is die ouens wat moet sorg dat, as ek ’n liedjie skryf en jy doen ’n cover daarvan, dan moet ek betaal word. Ses komma sewe persent. Maar dis die teorie; in die praktyk is dit net ons groot spelers wat betaal. Want as jy ’n independent is, dan moet jy jou NORM-geld neersit as die CD’s gedruk word. En jy laat vyfduisend hier druk en vyfduisend daar, maar jy sê vir NORM jy het net vyfduisend gedruk, hier’s die slippies, en jy betaal net die helfte en NORM word gerip en die komponis word gerip en die independent lag die hele pad bank toe.” “En ons moet vir NORM betaal as die verkope inkom,” sê Mouton, “geouditeerde syfers, alles above board. Maar dan kla die artist: ‘Hoekom is my share so laag?’ ” Weer maak hy Nell se stem na. “En laat ek jou nog ’n ding vertel. Die helfte van die hits in hierdie land is Duitse pop-goed wat vertaal is. Of Hollands of Vlaams of iets. Nou wat Adam gedoen het – en hy was briljant daarmee – hy’t ouens wat in Europa sit, en sodra daar ’n pop song is wat uitskiet, dan MP3 hy die ding met e-mail en Adam het sommerso met ’n pen gou gesit en Afrikaanse lyrics geskryf, veertig minute, dan’s hy klaar en hy bel vir Nerina Stahl en hy …” “Dis nou voor sy weg is hier.” “Al haar fokken hits was Duitse pop, wie dink jy gaan dit nou vir haar kry? In elk geval, dan sit ons met die gebakte pere, want ons moet die hele ding istreer. Daai geld moet Duitsland toe gaan, die songwriter en die publisher moet hulle cut kry. Maar nou kom hierdie independent en hy kry iemand om ’n cover van Adam se vertaling van hierdie Duitse song te doen … jy verstaan?” “Ek dink so,” sê Dekker, heeltemal geboei. “… en nou moet Adam betaal word, die Duitser en sy publisher moet betaal word, maar die independent sê nee, ons het net vyfduisend laat druk, maar hy lieg, want daar’s nie beheer as dit by verspreiding kom nie, die independents doen nou hulle eie en niemand hou boek nie.” “Dis hoekom hulle tjeks so groot is.”
“En dan kom die doos hier in en sê ons fokken verneuk hom.” “Laat hy sy eie CD’s gaan maak, dan kyk ons. Laat hy sy eie tweehonderdduisend uithaal vir ’n studio, sy eie vierhonderdduisend hoes vir ’n TV campaign,” “Amen,” sê Groenewald. “Sê hom van die s en die PDF’s.” “Ja,” sê Mouton. “Gaan vra vir Sakkie Nell of die independent vir hom ’n protected PDF stuur.” Steenkamp maak nog ’n sterretjie. PDF. “Daar’s net drie of vier groot CDverspreiders in die land. Dis die ouens wat die CD’s kom oplaai om na die platewinkels te versprei, jou Musica en Look & Listen, jou Checkers en jou Pick n Pay Hypers. Adam het ’n verspreidingsarm begin, nou’s dit ’n onafhanklike maatskappy, ons besit veertig persent, AMD, African Music Distribution. Nou wat hulle doen, soos die ander groot spelers, hulle hou boek van elke CD en elke drie maande dan stuur hulle ’n protected PDF file van elke kunstenaar se verkope vir my. Ons doen die oorbetaling aan die kunstenaar …” “Voor ons die geld van die verspreiders af kry,” sê Mouton. “Dis reg. Ons betaal uit ons eie sakke uit. Die risiko is ons s’n. En ek e-mail vir hom dieselfde PDF-staat, net soos ek dit van die verspreider gekry het, volledig, hy kan alles sien. En niemand kan karring met die staat nie, want ons het nie die nie.” “Nou sê jy my hoe ons hulle kan boor?” sê Mouton. “Onmoontlik,” sê Groenewald. “Omdat ons te fokken eerlik is, dis die probleem.” “Maar laat hy sy eie CD’tjies gaan uitgee. Laat hy die overheads aan sy eie gat voel. Dan praat ons weer.” “Amen,” bevestig sy prokureur.
35
John Afrika het oor die telefoon geskree en geraas en gesê: “Jý bel daardie pa in Amerika, Bennie, jy gaan hom bel, want die fok weet ék sien nie kans nie, hoe de moer, ek is op pad, jissis, Bennie, hoe de fok kon dit gebeur het?” en toe gooi hy die telefoon neer en Griessel het daar gestaan met sy selfoon in sy hand en hy het gewonder of Jack Fischer en Genote werk het vir ’n alkoholis wat besig is om twee sake in een dag op te fok en hy was lus en smyt die foon teen die muur. Toe laat sak hy net sy kop en hy staar vir die vloer en hy dink hy kan net sowel suip, want wat help nugter? Tot Vusi uitasem ingedraf gekom en gesê het: “Bennie, dit was die delivery van wat ons amper gestamp het; ons het ’n ooggetuie.” Nou staan hulle op die sypaadjie en hierdie vrou, op die oog af doodgewoon, onopvallend, donkerbril, vroeg dertigs, ’n bietjie bleek, skamerig, begin praat met ’n sagte stem, melodieus, asof dit diep uit haar hart uit kom. Sy sê haar naam is Evelyn Marais en sy het alles gesien. Sy het by Carlucci’s uitgekom, op pad na haar motor oorkant die straat. Sy wys na ’n rooi Toyota Tazz, seker tien jaar oud. Sy het skote hoor klap. Toe steek sy vas, in die middel van die pad. Sy praat kalm en duidelik en sonder haas, maar hulle kan sien sy’s nie heeltemal gemaklik met al die aandag nie. “Die eerste skote het nie eens na skote geklink nie, amper soos klappers, ek het eers later besef wat dit is. Toe kyk ek. Daar was vier wat ’n meisie gedra het, van daar af,” en sy wys met ’n ongeverfde vingernael na die hoek van Belmont. “Hulle het …” “Die meisie, hoe het hulle haar gedra?” “Twee het haar onder die skouers vasgehou; twee het haar aan die bene, hier by die knieë, gedra.” “Kon u sien of sy teenstand gebied het?” “Nee, dit het vir my gelyk of sy … ek dink daar was bloed aan haar hande, ek
het gedink sy het dalk seergekry, hulle help haar na die paneelwa toe, dis ’n ambulans …” “Dit was ’n ambulans?” “Nee. Dit was ’n afleiding. Net vir ’n oomblik. Logies, soort van, voor die ander skote geklap het. Baie harder. Maar ek kon nie die mense sien wat skiet nie; hulle was voor die paneelwa. Ek het hulle eers gesien toe hulle so omgehardloop kom. Die een ou, die bestuurder, hy’t ’n pistool met ’n knaldemper in sy hand gehad.” Dit is die oomblik dat Griessel begin vermoed sy’s nie jou gewone ooggetuie nie. “ ’n Pistool met ’n knaldemper?” “Ja.” “Mevrou, watse werk doen jy?” “Ek is ’n navorser. Vir ’n filmmaatskappy. En dis juffrou …” “Kan u die mans beskryf?” “Hulle was jonk, seker so in hulle twintigs. Mooi ouens. Dit is hoekom ek vir ’n oomblik gedink het hulle help haar. Drie was wit, een was swart. Ek het nie haarkleur opgelet nie, ek is jammer … Maar hulle … drie van hulle het denims aangehad, en T-hemde, nee, die een het ’n gholfhemp aangehad, ’n groen gholfhemp, liggroen, amper lemmetjie, dit het nogal heel goed gelyk by die denim. O, en die ander een het ’n bruin chino aangehad en ’n wit kraaghemp met iets geskryf hier bo die sak. Dit was te ver om te sien …” en Griessel en Ndabeni kyk haar in verstomming aan. “Wat?” sê sy, ongemaklik, en lig haar donkerbril tot bo-op haar kop en kyk vir Griessel en hy sien haar helderblou oë, ’n skakering van ’n tropiese see, hoe die aanskoue daarvan haar hele gesig laat verander, van vaal na mooi, van gewoon na uitsonderlik. “Juffrou, jy’s … oplettend.” Sy haal haar skouers skamerig op. “Ek sê net wat ek gesien het.”
“Die meisie, juffrou, dit is baie belangrik, jy sê sy het bloed aan haar hande gehad?” “Ja, haar hand, wag so bietjie, haar regterhand, en haar arm, tot hier,” en sy wys tot by haar elmboog. “Nêrens anders nie?” “Nee.” “Maar sy het nie gespartel nie?” “Nee.” “Het dit gelyk of sy … bewusteloos was?” “Ek … miskien. Nee. Ek weet nie. Maar sy het nie gespartel nie.” “En die paneelwa?” vra Vusi. “U weet nie dalk watse soort dit was nie?” “ ’n Peugeot. Maar ek moet erken, ek het glad nie geweet nie. Dit was eers toe hy wegry, toe sien ek die logo. Die een met die leeutjie wat so staan, jy weet, op sy agterbene …” Griessel knik net. Hy sou die fok weet nie die leeu-kloutjie by die Peugeotoortjie gebring het nie. Hy kyk na haar oë en dink: Die vroumens is ’n genie. “ ’n Silwer Peugeot, maar vuilerig,” sê sy. “Ek sal moet gaan kyk wat die modelnaam is …” Voor Griessel kan sê dit is nie nodig nie, voeg sy by: “En natuurlik die registrasienommer, as julle dit wil hê.” “Jy het die registrasienommer?” Griessel is te oorbluf om nog te ‘u’. “CA 409, dan so ’n strepie,” en sy trek dit horisontaal in die lug met haar vinger, “en dan 341.” Die speurders haal gelyk hulle selfone uit. “Juffrou,” sê Bennie Griessel, “wil jy nie vir ons kom werk nie?”
* * *
“In elk geval,” sê Willie Mouton, staan op en begin sy stoel terugstoot deur toe, die klein wieletjies geluidloos, “Adam het my gisteraand gebel, hier iewers ná nege, toe vertel hy my van Iván Nell se stories.” “En toe?” vra Fransman Dekker. “Toe lag ons. Want Adam sê laat hy sy ouditeur bring, dan weet hy ook wat is overheads.” “Dis al?” “Adam het gesê hy gaan huis toe, want Alexandra is nie lekker nie, hy’s half bekommerd oor haar. En dis waar Jos Geyser vir hom gewag het, maak nie saak wat hy vir julle vertel nie. Ek’s nou nie ’n speurder of so nie, maar jy kan in daardie ou se oë sien hy’s tot enigiets in staat.”
* * *
“Vusi, ons werk nou teen tyd,” sê Bennie Griessel vir hom by die tuinhekkie. “Ek het vir Mat Joubert laat kom …” Hy sien Ndabeni se uitdrukking. “Ek weet, maar die kommissaris se gat, ons moet die meisie kry. Nou wil ek vir jou vra: Volg die Peugeot op. Die nommer kan vals wees, maar laat ons probeer. Ek gee nie om wat jy moet doen nie, daar kan nie honderde van hulle in die Kaap wees nie, vergeet van die toneel, vergeet van alles, die paneelwa is joune.” Vusi knik geesdriftig, aangevuur deur Griessel se haas. “Mat Joubert kan die toneel kom doen, ek gaan haar kry, Vusi, dis al wat ek nou wil doen, is om haar te kry. Ek wil net vinnig deur die huis, kyk of daar enigiets is wat saak maak, dan gaan ek probeer uitwerk hoe hulle geweet het sy’s hier. Op die een of ander manier … Ek weet nie, ek wil uitvind vir wie sy nog gebel het …”
“Dis goed, Bennie.” “Dankie, Vusi,” en hy draai om, loop, gaan by die huis in, sit die ding haastig aanmekaar. In die voorportaal: Hulle het die voordeur se loodglas gebreek, oopgemaak, ingekom. Die ou man hier geskiet. Na links is ’n reusestudeerkamer, dalk vroeër die sitkamer, ’n groot werkstafel met tallose dokumente, bo-op staan ’n telefoon, eenkant lê ’n stoel, omgestamp. Het sy van hier af gebel? Hy loop in die gang af, kyk by al die slaapkamers in. Niks noemenswaardig nie. Op pad terug by die gastebadkamer in. Dit ruik vaagweg na onlangse gebruik. Hy trek ’n vinger deur die bad. Dis nat. Iemand het gewas, binne die laaste uur of twee. Handdoek klam. Hy ruik. Seep. Sê niks. Kyk skerp na die bad se binnekant. Hare by die prop, twee lang, donker hare. Rachel s’n? Loop uit. Sy’t gebad. Tyd gehad daarvoor. Beteken groot vertroue in die ou man. Sal sy naam moet uitvind. Weer deur die voorportaal, dan by die kombuis, alles pynlik netjies. Hy sien die oop agterdeur, draf uit, versigtig om te kyk waar hy trap. Hy sien die bloed buite, ’n lang sliert oor ’n geplaveide paadjie en ’n deel van die grasperk en daar kom ’n beklemming om sy hart. Hy gaan hurk teësinnig, kyk na die spatsels. Here, hulle het haar keel gesny, die moontlikheid is ’n lem in sy ingewande. Nee, kan nie wees nie. Hy’t vir Evelyn Marais gevra, was die bloed net aan haar hande. Ja, haar hand, haar regterhand, en haar arm, tot hier. Nêrens anders nie? Nee. Maar die bloedpatroon hier buite vertel ’n ander storie. Hy spring op, hardloop, hoop sy is nog nie weg nie, by die agterste hekkie uit, links in Belmont, na waar die groeiende skare agter die geel band op die hoek staan, uniforms wat hulle dophou. Sy oë soek die Tazz. Dit staan nog daar, die vrou sit daar binne, hy dink sy gaan ry, hy sê “ekskuus, ekskuus” om deur die omstanders te kom, die Tazz trek weg, hy is net betyds om teen die sypaneel te klap. Sy kyk verskrik om, sien hom, hou stil.
“Juffrou,” sê hy uitasem, gaan staan by haar deur terwyl sy die ruit afdraai, die donkerbril oplig, haar regterarm buite, op die deurpaneel. “Ekskuus,” sê hy. “Dis O.K.” Die blou oë wat hom in afwagting aankyk. “Die meisie …” Hy sukkel steeds om sy asem onder beheer te kry. “… is jy doodseker van die bloed … net aan haar arm?” Sy skakel die enjin af, maak haar oë toe. Sit só, seker vir ’n halfminuut. Griessel onderdruk sy groot ongeduld, want hy wil hê sy moet seker wees. Die oë gaan oop. “Ja,” sê sy en knik beslis. “Daar was nêrens anders bloed nie?” Sy skud haar kop van kant tot kant, doodseker. “Nee. Net die arm.” “Nie haar keel of haar kop nie.” “Definitief nie.” “Dank Vader,” sê Bennie Griessel en hy vat haar hand waar dit op die oop venster rus en hy soen die bokant daarvan. “Dankie,” sê hy. “Dankie, dankie,” en hy draai om en hy begin terugdraf. Dit is nie Rachel Anderson se bloed nie.
* * *
Fransman Dekker se eerste instink is om Mouton en Steenkamp die skuld te gee vir sy frustrasie, vir die kwaad wat hier in hom opkrop. Hy staan agter ’n toe deur in Adam Barnard se kantoor en hy kyk na die geraamde foto’s, wil een vat en neersmyt en daarop spring. Oor die manier hoe Mouton gesê het dis Jos Geyser, asof hy wat Dekker is ’n idioot is, oor die manier hoe Steenkamp teruggesit het, selfvoldaan, windgat whitey … Hy kyk na Adam Barnard op ’n foto. Groot man, vol selfvertroue. Elke glimlag
is dieselfde, elke manier hoe hy na die kamera kyk, sy lyf so effens gedraai, hande om skouers en middels van kunstenaars, hy’s die toonbeeld van sukses, Mister Bemin, nie ’n vyand in die wêreld nie. Onmoontlik. En dit, weet Dekker, is die eintlike rede vir sy frustrasie: Hy’s in ’n doodloopstraat, die hele ondersoek is besig om stadig maar seker in ’n moeras van, fok, onwaarskynlikhede weg te sak, niks maak sin nie en die whiteys lag vir hom. En waar is Mbali Kaleni? Hy loop om die lessenaar, gaan sit, plaas sy elmboë op die lessenaar, sy kop in sy hande, vryf sy oë. Hy sal moet dink, hy sal sy nonsens moet laat staan en hy sal hierdie ding van voor af moet dink, want nie een van die stukke pas bymekaar nie. Jos en Melinda Geyser. Hulle lieg saam. Of nie. Die video? Die afperser? Waar is Mbali Kaleni, sy’t iets gekry, sy volg dit op en sy gaan dié saak oplos en hy gaan soos ’n doos lyk en hy trek sy selfoon uit sy sak en hy bel haar nommer en dit lui en lui en lui. Sy kan sien dis hy wat bel, sy’s aspris. Sy humeur vlam weer op, wild soos ’n veldbrand. Wag, wag, wag. Kalm nou. Weer sy kop in sy hande, hy maak sy oë toe. Fok weet, hy sal moet vinger trek as hy dié ding wil breek. Konsentrasie: Adam Barnard is in sy huis ingedra, op met die trappe, tot by sy gesuipte vrou. Dit beteken iemand weet sy vrou is elke aand uitge. Dit beteken iemand wat sterk genoeg is om die aansienlike dooie gewig van Barnard daar te kry. Iemand wat weet Barnard het ’n pistool in die huis – en weet waar hy dit bêre. Vergeet van Bloemfontein en die afperser, daar’s geen manier nie. Die kennis van die pistool is die sleutel. Wie sou weet?
Jos Geyser? Miskien. Dalk Melinda ook. Kennis. Motief. Spierkrag. Maar Bennie Griessel sê dis nie Jos nie. En Griessel is nobody’s fool, al sê hulle hy het gesuip soos ’n vis. Of maak Griessel ’n fout, hoeveel was die nuwe kaptein se kop by die kerkhofmoord, hy’s net ’n mens … Kennis van die pistool. Hoeveel mense kan dit wees? Alexa Barnard, nog een wat deur Griessel verontskuldig is, ’n drinkende vrou. Was Bennie objektief? Het sy hom ’n drinkerbroer-rat voor die oë gedraai? Het sy hulp gehad? ’n Lover? Wie nog? As jy in ag neem sewentig, tagtig persent van misdade word deur ’n lid van die onmiddellike gesin gepleeg. Dan tref dit hom: Die huishulp. Klaende Sylvia Buys, was net bekommerd oor waar sy weer werk gaan kry. Wat so vreeslik lief was vir Adam Barnard, so vinnig was om die skuld op Alexandra te pak. Moet haar nie vergeet nie. Motief? Enigiets. Het Adam haar betrap dat sy steel? Haar gekonfronteer? En hoe goed het die Geysers vir Barnard geken? Huisvriende? Sou een van hulle weet waar die pistool in die huis is? Hy sal moet uitvind. Eers vir Griessel bel, vir hom sê hy het bedenkinge oor Alexandra, oor die Geysers, al gaan dit Bennie die moer in maak. Waar is Mbali? Iemand klop aan die deur. “Ja?” Natasha Abader steek haar kop in. “Hier’s ’n polisieman voor by die deur. Hy sê hy wil jou wys waar hulle ’n skoen gekry het.” Hy spring op. “Dankie,” sê hy en loop deur toe. “Ek wil asseblief weer met jou praat,” sê hy. Sy lyk nie verheug daaroor nie.
14:02 – 15:10
36
Dekker en die jong swart lid van die Metro-polisie moet hulle pad oopskouer deur die joernaliste voor die deur, oor die klein grasperkie, verby die koivisdam, deur die toegangstonnel van die gebou, tot in Buitenstraat, die media wat vrae soos beskuldigings na hom slinger, tot hulle die laaste aasvoël op die hoek van Bree afskud. Wanneer kom Cloete dié mediagemors uitsorteer? “Dis daar bo, om die hoek,” sê die man van Metro en hulle loop in stilte en Dekker besef die suidoos het opgesteek, die perfekte somerdag het verdwyn. Hy kyk op na die berg. Die wolk begin op die tafel soos ’n voorbode vorm. Teen laatmiddag gaan dit stormsterkte wees, maar dis Januarie, jy kan niks daaraan doen nie. Die Metro-man lei hom om tot op ’n hoek, hulle draai links in Nuwekerkstraat, loop oor die pad en ses tree verder gaan hy staan en wys met sy knuppel. “Net daar.” “Dis waar die skoen gelê het?” “Net daar,” beaam die man. “Amper in die gutter.” “En jy is doodseker.” “Dis ek wat hom gekry het.” “Jy het nie binne-in gekyk nie?” “Binne-in die skoen?” Die man skroef sy gesig in ’n frons van wantroue, asof hy Dekker se intellek nie heeltemal vertrou nie. “Ek sou ook nie,” sê Dekker. “Baie dankie.” “Ek kan gaan?”
“Wag. Ek wil net hoor: Het hulle julle gevra om goed op te tel?” “Ja. Senior inspekteur Oerson het ons gestuur. Om alles op te tel wat lyk of dit in ’n rucksack kon gewees het. Enigiets. Toe sien ek die skoen. Toe tel ek hom op en sit hom in die plastic bag. Ek het ook ’n hoed gekry, daar anderkant by Watsonstraat se hoek. Maar dis al. Toe vat ek dit na Abrams toe, hy’t die groot garbage bag gehad. Toe sit ek dit in die garbage bag. Abrams het die garbage bag vir senior inspekteur Oerson gevat, want hy’t gesê hy wil alles sien.” Deeglik en sistematies, asof daar steeds die agterdog is dat Dekker nie die skerpste potlood in die blikkie is nie. “Baie dankie. Dis al wat ek wou geweet het.” Die man knik, draai om, stap rustig straataf, knuppelswaaiend, hand op die pet om dit teen die wind te beskerm. Dekker kyk na die plek waar die skoen gelê het. Dan na die hoek van Nuwekerk en Buiten. Dis so tussen twee- en driehonderd meter van AfriSound af. Wat beteken dit? Hy haal sy selfoon uit, want dis tyd dat hy vir Bennie Griessel bel.
* * *
Metro-polisie se lisensiëringsafdeling sê vir Vusi die Peugeot Boxer-paneelwa, CA 409-341, behoort aan CapSud Trading … “Spel dit vir my,” vra Vusi. “Hoofletter C, a-p, hoofletter S, u-d … die kontakpersoon is ’n mnr. Frederik Willem de Jager, die adres is Eenheid 21, Access City, La Bellestraat in Stikland. “Baie dankie,” sê Vusi. “Maar hier is ’n tag op,” sê die vrou. “Die voertuig is in die skut.”
“Watter skut?” “Ons vehicle impound. Hier langs my, in Groenpunt.” “Dit is op die oomblik daar?” “Dis wat die stelsel sê.” Vusi oordink dit. Hy vra: “Het jy ’n telefoonnommer vir die De Jager?” “Jip.” En sy gee dit.
* * *
Griessel staan by die groot tafel, ’n papier met twee telefoonnommers in sy hand. Een daarvan is sy selnommer. Die ander is ’n Kaapse nommer wat hy nie ken nie. Hy kyk na die handskrif, vergelyk dit met die aantekeninge op die hordes dokumente wat oor die tafel gesaai is, in klein, byna onleesbare gekrabbel. Die nommers is groter, ronder, vrouliker geskryf. Rachel Anderson? Hy bel die ander Kaapse nommer. Drie luie, dan antwoord ’n vrou met die kenmerkende aksent. “United States consul, good afternoon, how may I help you?” “Oh, sorry, wrong number,” sê hy en druk die oproep dood.
* * *
“Gourmet Foods, middag,” antwoord ’n vrouestem. “Is dit nie CapSud Trading nie?”
“Dit is CapSud, ons handelsnaam is Gourmet Foods.” “Kan ek met mnr. De Jager praat, asseblief?” “Wie praat nou?” “Dit is inspekteur Vusi Ndabeni van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.” “Meneer De Jager is oorlede, inspekteur.” “O. Ek is jammer. Wanneer is hy oorlede?” “Vier maande gelede.” “Ek bel om navraag te doen oor ’n Peugeot Boxer-paneelwa, registrasienommer CA 409-341, wat in die naam can CapSud geregistreer is.” “Dis seker die gesteelde een.” “O?” “Ons het hom gekoop vroeg Oktober verlede jaar, toe stuur ons hom na die signwriters toe sodat hulle ons logo kan opsit. Toe steel hulle hom daardie selfde nag by die signwriters. En julle het nooit iemand gevang nie.” Verwytend. “Is u daarvan bewus dat die voertuig in die Metropolitaanse Polisie se skut was?” “Ja, dis hulle wat hom gekry het, in Soutrivier, op ’n brandweer-parkeerplek, toe sleep hulle hom in en hulle skut hom en bel ons. Dit was middel Oktober.” “Mevrou, hoekom het julle hom nie gaan haal nie?” “Want toe Frik dood is, toe’s alles gevries, niemand kan geld trek of ’n tjek teken nie, en die boedel gaan eers oor twee maande afgehandel word, dis mos die Nuwe Suid-Afrika, jy wag en sien.” “Sover u weet, was die paneelwa dus nog altyd in die skut.” “Moet wees, want daar’s elke week ’n ander een wat bel en sê ons moet die boete kom betaal en die ding kom vat, en hoe meer ek verduidelik van Frik, hoe
minder help dit, want volgende week is dit weer ’n ander een wat bel.” “En u is mevrou … ?” “Ek is Saartjie de Jager. Frik se vrou.” “Mag ek vra hoe meneer De Jager dood is, mevrou?” “Cholesterol. Die dokter het gepraat, ek het gepraat, maar Frik wou nie hoor nie. Was sy lewe lank só. En nou sit ek met die gemors.”
* * *
Alles gebeur gelyk. Griessel wag ongeduldig by die groot tafel vir sy kontak by Telkom om terug te bel, John Afrika loop versigtig verby die bloed in die voorportaal, kyk met afgryse daarna en sê: “Nee, o jirre,” Griessel se selfoon begin lui en Vusi kom by die voordeur in met ’n opgewonde “Bennie!”. Hy dink dis die Telkom-man, draai weg van sy kollegas af en antwoord. “Griessel.” Deur die venster sien hy Mat Joubert met die tuinpaadjie aangestap kom. “Bennie, dis Fransman.” Te veel goed op een slag. “Fransman, kan ek jou terugbel?” Agter hom sê die kommissaris iets, verwyt in die stemtoon. “Bennie, ek wil net vinnig vra, hoe seker is ons Barnard se vrou en Jos Geyser is definitief nie betrokke nie?” Hy wil vir Afrika sê dis hy wat vir Joubert laat kom het, voor hier vuurwerke is. “Weet nie,” sê hy, sy kop nie by die gesprek nie. “So ek kan hulle maar weer ondervra? Ek sal vir Mbali kry om met Alexandra te praat …” Die vrouespeurder se naam laat hom fokus. “Jy weet nog nie?” vra hy.
“Wat maak jy hier?” hoor hy John Afrika agter hom sê. Hy draai om. Joubert het ingekom. Hy plaas sy hand oor die gehoorstuk as Dekker vra: “Ek weet nog nie wat nie?” “Kommissaris, ek sal nou verduidelik,” sê Griessel, en dan, vir Dekker: “Mbali is geskiet, Fransman. Hier in Bo-Oranje, die Amerikaanse meisie …” Dekker is dronkgeslaan. “Sy’s in die hospitaal,” sê Griessel. “Die Amerikaanse meisie? Nou wat het Mbali daar gedoen?” “Dis wat ek vir jóú wil vra.” “Hoe sal ék weet? Ek het haar na Jack Fischer toe gestuur.” “Jack Fischer?” vra hy verbaas en dan weet hy dit was die verkeerde ding om te sê, met Afrika en Joubert wat hier naby hom staan. “Hulle het werk gedoen vir AfriSound, maar ek dink dis ’n dead end. Is Mbali O.K.?” “Ons weet nie. Fransman, ek is jammer, ek moet hardloop; praat weer met Geyser as jy dink jy moet, ek bel jou later.” Hy druk die oproep dood en sê: “Kommissaris, ek het vir Mat gevra om te kom help,” en Afrika se gesig vertrek in protes, maar Griessel gee hom nie kans nie. “Met respek, kommissaris,” begin hy, wetende dat dit wat hy nou gaan sê, nie vreeslik vol respek gaan wees nie, maar hy gee hoegenaamd nie meer om nie, “jy’t gesê daar’s nie mense nie. Mat sit by PT en tande tel, hy’s die beste speurder in die Kaap en ek het ’n Amerikaanse meisie vir wie ek gaan kry, dit maak nie saak wat dit vat nie. Jy kan my môre fire, jy kan my weer ’n inspekteur of ’n sersant maak as jy wil, maar daar’s die fok weet nie nou tyd vir hanna-hanna nie. Vusi werk aan die paneelwa waarmee hulle vir Rachel Anderson hier weg het, ek gaan uitvind hoe de hel hulle geweet het sy’s in hierdie huis, ons het nie tyd om die toneel te prosesseer nie, ek het iemand nodig wat weet wat hy doen. En jy’t gesê ek moet Rachel se pa bel, en ek sal dit doen, maar nie voor ek weet wat aangaan nie. Want hy gaan vir my vra en dan wil ek antwoorde hê wat ’n dogter se pa sal tevrede stel. So, asseblief, kom ons los nou net eers die uitkakparade en ons kry die meisie.” En dan voeg hy weer ’n laaste, hoopvolle: “Met respek,
kommissaris,” by en hy wag vir die valbyl om af te kom. John Afrika kyk na Griessel, na Joubert, na Ndabeni, en dan weer terug na Griessel. Uiteenlopende emosies trek soos seisoene oor sy gesig. Dan knik hy effens. “Kry haar, Bennie.” En hy loop uit, versigtig om nie in die bloedplas te trap nie. Griessel se selfoon lui weer, hy antwoord en die ou van Telkom sê: “Bennie, daar’s tussen twaalfuur en twee-uur net twee oproepe gemaak van daardie nommer af. Die eerste was na West Lafayette in Indiana, dis in Amerika, en die tweede is na jou toe.” “Dave, hoe laat was die eerste een gemaak?” “Hou aan … dertien ses-en-dertig. Dit het twee minute, twee-en-twintigsekondes geduur.” “Dankie, Dave, baie dankie.” Hy beëindig die oproep en hy dink, hy probeer die ding bymekaarsit, daar’s duisend los drade in sy kop. “Bennie …” sê Vusi, maar hy hou sy hand in die lug, kyk na sy selfoonpaneel, soek in die oproep na die rekord van Rachel se bel, kry dit. Hy het dit om dertien een-en-veertig ontvang. Toe hardloop hy uit die Van Hunks en hulle jaag. As haar aanvallers die eerste oproep op die een of ander manier onderskep het, het hulle net vyf minute langer gehad. Sê nou maar hulle was in die omgewing, hier naby, iewers. Hulle moes hier ingekom het net nadat hy klaar met Rachel gepraat het. Dis vinnige reaksie. Té vinnig … ’n Ligpunt in sy kop, ’n flits van insig. “Vusi, dis hier op die hoek waar sy in die kafee ingegaan het?” “Die deli,” knik Ndabeni. “En toe hardloop sy hier af,” en Griessel wys na Bo-Oranje. “Mbali het voetspore hier in die tuin gekry.” Griessel krap sy kop. “Hulle het hier iewers gesit, Vusi. Hulle moes haar gesien het, maar met al die polisie hier …”
“Bennie, die paneelwa …” Maar Griessel hoor nie. Waarom het hulle háár nie geskiet nie? Net die ou man. Hulle het vir Erin Russel keel afgesny. Maar vir Rachel laat leef terwyl hulle haar net so maklik kon geblaas het. Hier, in dié huis. Maar toe dra hulle haar hier weg? Nog ’n gewaarwording. “Die rugsak,” sê hy, want hulle het Erin Russel se rugsak van haar skouers afgesny. Hy buk af, kyk onder die tafel. “Kyk of julle ’n rugsak sien.” Hy loop in die gang af. “Vusi, vat die linkerkant, die badkamer, daardie slaapkamer, ek sal die regterkant vat.” Hy gaan staan stil. “Mat, asseblief, kan jy in die kombuis kyk, en buite.” “Hoe lyk die rugsak?” “Geen idee nie,” sê Griessel, hy het ’n teorie en hy steek skielik vas, sodat Vusi amper in hom vasloop, en begin koorsagtig bel. As die sersant in Caledonplein antwoord, identifiseer hy homself en vra of daar nog uniforms by die Cat & Moose in Langstraat is. “Ja, hulle is nog daar.” “Sarge, sê hulle moet vra waar die Amerikaanse meisies se bagasie is. Erin Russel en Rachel Anderson. En dan wag hulle by daardie bagasie en hulle pas dit met hulle lewens op.” “Ek maak so.” En dan sê Griessel vir Vusi Ndabeni: “Hulle soek iets, Vusi, die fokkers soek iets by die meisies. Dis hoekom Rachel nog leef.” En hy draf haastig na die slaapkamers toe om die rugsak te gaan soek.
37
“Wat nou?” vra Natasha Abader as hy wyle Adam Barnard se deur agter haar toetrek. “Sit, asseblief,” sê Dekker en gaan skuif sy sitvlak op die lessenaar sodat hy intimiderend naby aan haar kan wees. Sy hou nie daarvan nie, haar mooi oë wys dit, maar sy sit. “Kan ek jou trust, suster?” “Ek het jou gesê, ek’s nie jou suster nie.” “Hoekom, suster, omdat jy hier la-di-da tussen die whiteys werk, omdat ek ’n common hotnot van Atlantis is? Jy’s chlora, finish en klaar.” “Dink jy dis waaroor dit gaan?” en haar oë blits. “Jy kan dit nie vat dat ek met ’n wit man geslaap het nie, kan jy? Nee, help nie jy skud jou kop nie, ek het gesien hoe jy verander het, so ewe skielik, toe ek sê: ‘Ja, hy’t my ook hier gevry.’ Nou laat ek vir jou sê, hy was nie die eerste witte nie en hy sal ook nie die laaste wees nie. Maar ek discriminate nie, ek slaap saam wie ek wil, want dis die Nuwe Suid-Afrika, ma’ jy wil dit nie weet nie. Jy wil ‘brother’ en ‘sister’, jy wil hê ons moet ’n aparte tribe wees, ons coloureds, jy’s van die soort wat vir almal loop en vertel hoe swaar dit is om bruin te wees. Wake up, Inspector, dit help nie. If you don’t integrate, you won’t. Dis die probleem in hierdie land, almal wil kla, niemand wil iets doen nie, niemand wil vergeet van die verlede nie. En, net so vir die rekord, saam met hoeveel wit vrouens het jy al geslaap?” Hy kyk weg, venster toe. “I thought so,” sê sy. “Wat laat jou dink ek het?” “Daar’s nie ’n vrou wat na jou kan kyk en nie aan seks dink nie,” sê sy.
Nou kyk hy vir haar, in die oë, en sy kyk vir hom terug, uitdagend, kwaad. “I’ll take that as a compliment.” Wetende dat hy ’n veldslag verloor het, probeer hy sy posisie versterk. “Hoekom is ek hier?” Hy is skielik ongemaklik met die nabyheid. Hy staan op, loop om die lessenaar. “Want ek trust jou.” Sy skud haar kop, lang hare soos ’n kaskade. “Ek gaan vir jou goed sê wat jy nie kan herhaal nie,” sê hy. Sy kyk net vir hom. “Die mense wat vir Adam Barnard geskiet het, ken hom baie goed. Hulle weet sy vrou in die aand uit. Hulle weet waar hy sy pistool bêre. Jy’s die enigste een wat ek kan trust. Sê my wie hom só goed geken het.” “Hoe kan jy só sê. Hulle het hom dan in sy huis geskiet …” “Nee, hy’s op ’n ander plek geskiet. Miskien hier anderkant, in die straat. Ons het sy skoen daar gekry. En sy selfoon,” en hy kan sien dit verras haar en dit gee hom genoegdoening. “En toe vat hulle hom na sy huis toe, dra hom op met die trappe, sit hom daar neer … Wie weet van sy vrou, Natasha? Wie sal van die pistool weet? Die Geysers?” Sy skuif eers haar romp reg, vee haar hare terug oor haar skouer voor sy antwoord. “Nee. Ek glo nie. Ek dink nie hulle was al ooit by sy huis nie. Adam was … skaam vir Alexa. Sy’t al ’n paar keer …” “Wat?” “Scenes gemaak as hy mense huis toe vat. Hy’t hiér geleef. Van die oggend tot die aand. Hy’t huis toe gegaan, so teen sewe-uur, maar hy’t teruggekom, baie keer. Agtuur, nege-uur, dan werk hy tot ná twaalf …” “Nou wie sou geweet het?”
Sy dink weer voor sy antwoord. “Ek sal nie regtig kan sê nie.” “Asseblief. Vat ’n raai.” “ ’n Raai?” “Speculate.” “Ek het geweet van sy vrou …” “Wie nog?” “Willie en Wouter en Michéle …” “Wie’s Michéle?” “Sy sit al heeloggend daar binne. Sy doen die PR.” “Ek dog Willie Mouton doen produksie en promosie.” “Ja, maar sy doen die PR. Promosie is wanneer ons betaal vir ’n ding. PR is wanneer die koerante skryf oor goed, of iemand is op TV of radio en jy betaal nie daarvoor nie.” “Watter een is Michéle?” “Dis daardie ouerige vrou wat daar binne by Spider en Iván gesit het …” Hy onthou vaagweg, ouer vrou tussen die jonger manne. “En sy ken vir Adam goed?” “Hulle werk al jare saam. Van die begin af. Maar sy’t op haar eie gegaan, so sewe jaar terug, maar sy doen nog steeds ons PR, free-lance.” “Hoe het sy op haar eie gegaan?” “Jy weet, haar eie agency begin. Vir kunstenaars wat nie ’n label het nie, vir kleiner labels.” “Het sy en Adam goed klaargekom?”
“Hulle was soos broer en suster …” Met ’n infleksie dat dit nie die volle verhaal is nie. “Wat beteken dit?” “Hulle sê Adam en Michéle was lovers. Jare terug.” “Hoeveel jare terug?” “Dis net rumours …” Hy gee haar ’n kyk wat sê: “Los jou nonsens.” “Toe Alexandra begin drink het, glo. Toe gaan huil hy op Michéle se skouer. En sy was toe self getroud …” “Fok,” sê Dekker. Sy kyk hom afkeurend aan. “Here, suster,” sê hy beswaard. “My lysie raak net langer.”
* * *
Mat Joubert loop terug deur die kombuis tot in die voorportaal, waar Griessel en Vusi met verwagting na hom kyk. Hy skud sy kop. Geen rugsak nie. Hy sien hoe Bennie ingedagte die inligting prosesseer. Joubert wag, geduldig, tot hy weet hy kan praat. “Jy weet van die bloed daar buite,” vra hy vir Griessel, hou hom dop as hy “ja” sê, Bennie se hele lyf stil, sy kop so half skeef, die regterhand onwillekeurig gelig tot teen sy kop, die vingers wat in sy dik, deurmekaar bos hare krap, net agter die oor. Daar kom ’n deernis oor Joubert vir dié kollega van hom, dié vriend, hierdie man wat hy al ’n leeftyd lank ken. Griessel se lyf was nog altyd te klein vir al die energie, sodat dit soms lyk asof dit vibreer, asof ’n skokgolf van drif soos ’n
tsoenami daaruit kan voortrol. Daardie gesig – twintig jaar gelede het dit ’n elfagtige kwaliteit gehad, die ondeunde onhebbelikheid van die hofnar, met ’n aansteeklike lag en aweregse kwinkslae wat voortdurend agter die blink, Slawiese oë en die breë mond gehurk was, gereed om met volle, onkeerbare vaart weg te spring. Nou kan jy dit byna nie meer sien nie – die lewe se erosie het dit in ’n netwerk van fyn spoelslote weggekalwe. Maar Joubert weet, in daardie kop vuur die sinapse nou. Griessel, die hele oggend van bakboord na stuurboord, probeer nou sy kop om dié ding kry. En wanneer dit gebeur, sal die poppe dans. Want Bennie het ’n speurder se brein, steeds veel meer flink en kreatief as syne. Hy was nog altyd stadig, metodies, sistematies, maar Griessel het ’n instink, ’n natuurlike flair, die vonkelende losskakel teenoor Joubert se ploeterende voorspelerspel. “Dit kan dwelms wees,” sê Griessel, maar vir homself. “Ek dink … die rugsak …” “Bennie, die paneelwa was in Metro se skut,” sê Vusi. Griessel staar in die niet: “… die meisies het … nee, ek weet nie. Miskien het hulle dwelms gesteel. Of gevat en nie betaal nie …” Joubert wag steeds, tot hy sien Bennie fokus op hom en Vusi. Dan vra hy: “Is dit die meisie se bloed?” “Nee …” En dan kyk Bennie skerper na Joubert, ’n skielike insig, en hy sê: “Dis iemand anders se bloed, nie Rachel s’n nie, dis een van die fokkers se bloed,” en hy gryp sy selfoon. Joubert sê: “Bennie, laat ek die hospitale bel.” “Nee, Mat, laat Caledonplein dit doen,” en hy bel die nommer, gee die opdrag vir die radiokamer-sersant: “Enige jong man van tussen sê nou maar agttien en vyf-en-dertig, enige kleur, enige ras, enige taal, sarge, elke jong fokker wat bloei, wil ek van weet,” en dan kyk Griessel vir Vusi en hy sê: “Metro se skut?” “Dis reg. Dieselfde Peugeot, dieselfde registrasie. Dit was eers gesteel, toe kry Metro dit terug in Soutrivier en dit staan al sedert Oktober in die skut, want die eienaar is dood aan ’n hartaanval en die boedel is gevries. Ek gaan ry, Bennie. Ek gaan uitvind wat daar aangaan. Hoe het hulle dit uit die skut gekry?”
Joubert sien ’n flikkering in Griessel se oë, ’n momentele gewaarwording. “Wat?” Want hy ken die waarde van Bennie se intuïsie. Griessel skud sy kop. “Weet nie. Iets. Jissis, ek moet gaan sit en dink, maar daar’s nie tyd nie. Vusi, dis uitstekende werk, gaan vind uit, kom ons kry daardie wa, dis omtrent al wat ons het …” Skielike intrek van die asem. “Wag,” roep hy vir Ndabeni terug. “Vusi, ek wil nou net seker maak, die mannetjie van die deli, hy’t na die foto’s van Demidov se mense gekyk?” “Hy het.” “Niks?” “Niks.” “O.K. Dankie.” En Vusi draf uit en Griessel staan kop onderstebo en Mat Joubert staan hom geduldig en dophou. Lank. In stilte, sodat die tik-tok van die staanhorlosie in die groot studeerkamer hoorbaar is. Hulle twee, die dinosouriërs van die SAPS, dink hy, ’n bedreigde, uitsterwende spesie, politieke aardverwarming, rasse-klimaatsverandering moes hulle lankal geëis het, maar hier is hulle nog steeds, twee ou karnivore in ’n oerwoud, die ledemate stram, die tande stomp, maar nog nie heeltemal ondoeltreffend nie. Griessel krap hoorbaar in sy boskaas agter sy oor. Hy maak ’n geluid: “Hu …” Hy draai om en loop uit, Joubert agterna, bedaard, oor die deurmatjie en die stoep, verby die bougainvilleas, met die leiklip-geplaveide paadjie langs. Griessel maak die tuinhekkie oop en gaan staan in die straat. Hy draai na Leeukop. Joubert gaan staan langs hom, kyk, sien die rotskoepel wat bo die stad uitstyg, voel die wind, sien hoe dit Bennie se hare nog meer deurmekaar waai. Dié dag, wat so perfek begin het, die suidooster sal dit oorneem, vanaand sal dit besete om die hoek van Tafelberg waai, ’n demoon. “Vóór ses vanoggend, daar,” sê Griessel en wys na Leeukop, “het sy vir ’n tannie gesê: ‘Bel die polisie.’ Toe jaag ouens haar nog steeds, al van twee-uur vanmôre af. Elfuur, hier bo by die deli, toe sê sy vir haar pa oor die tiekieboks sy kan nie met die polisie praat nie …” Tiekieboks, dink Joubert. Dinosouriër-woord. Griessel laat sy kop weer sak. Dan kyk hy op, na Tafelberg toe. Sy oë meet die
afstand na Leeukop. Hy kyk vir Joubert. “Vyf uur vandat sy op Leeukop was, toe kom sy hier by dié kêffie aan. En toe stop die fokker in die straat en kom in, agter haar aan. Nou hoe het hulle geweet, Mat? Waar was sy in daardie tyd, hoekom kon hulle haar nie gekry het nie? Hoekom wou sy toe skielik nie die polisie bel nie?” Weer lig sy hand na sy hare toe. “Wat doen jy? ’n Meisie, ’n buitelander, jy soek haar met ’n seer hart, sy kan enige plek wees, hoe hou jy die hele stad dop?” Hulle tuur vir die berg. Soos altyd, Griessel se vermoë om in ander skoene te staan, die slagoffer of die misdadiger s’n, wat vir Joubert bekoor. Dan besef hy wat Griessel klaarblyklik reeds gesnap het. Hulle het daar op die berg gesit, die hele stad dopgehou. “Kan wees,” sê hy. “Help ons fokkol,” sê Griessel, steeds ’n stap voor. “Want nou het hulle haar.” “Maar jy kan nie dié huis van die berg af sien nie,” sê Joubert en wys na die Victoriaanse struktuur langs hulle. “Dis reg …” Weer afwesig, Bennie se kop soek nou, weet Joubert, hy ken die frustrasie, die rommelhoop van inligting op só ’n dag wanneer alles gelyk gebeur. Jy moet snuffel deur die chaos, alles wat jy gehoor het, gesien het, alles wat jy weet, wat jy kan saamflans. Vir hom is dit die arbeid van die nag, wanneer hy langs Margaret lê, agter haar warm lyf, sy hand op die ronding van haar maag. Dan loop sy gedagtes stadige, sistematiese paaie. Maar Griessel se prosesse is anders, ongeduldig, vinnig, nie altyd foutloos nie, maar veel flinker. Hy sien Griessel se kop ruk, ’n tuimelaar het geval, hy kyk straataf, begin skielik in daardie rigting loop. Joubert moet sy lang bene rek om by te bly. Honderd meter verder gaan Griessel in ’n oprit staan, kyk na die huis, die motorhuis. “Hy’t hier gesit, in ’n bakkie …” Opgewonde. “Hy’t ons amper moer toe gery …” Griessel draf in met die oprit, draai om, kyk na Piet van der Lingen se huis en hy sê: “Nee …” loop heen en weer, spring op en af, sê: “Mat, kom staan hier.” Joubert kom staan. “Staan op jou tone.” Joubert strek.
“Wat kan jy sien van die huis?” Die groot man kyk. “Net te laag om alles te sien.” “Hy’t hier uitgekom, ou in ’n bakkie. Toyota, vier-by-vier, so ’n verbleikte rooi, die ou model. Fokkertjie agter die stuurwiel was jonk, hy’t agteruit gejaag, moerse haastig, reg voor ons in, toe is hy stad se kant toe …” Joubert fokus anders, onbelas deur die herinneringe. “Hy kon op die bakkie gestaan het,” sê hy. “Dan sou hy alles kon sien.” “Jissis,” sê Griessel. “Jonk, hy was jonk, net soos die ander,” en hy kyk vir Joubert. “Ek sal hom herken, Mat, as ek sy fokken gevreet weer sien. Ek sal hom ken.” Hy is stil vir net ’n hartklop, dan sê hy: “ ’n Ou Toyota … Dis nie ’n dwelmkar nie, Mat …” Griessel se selfoon lui. Hy kyk na die skerm voor hy antwoord. Hy sê: “Sarge?” Dan luister hy, veertig sekondes lank, en begin aanstap. Mat Joubert loop agterna, al hoe vinniger, sy oë op Griessel, hier kom die tsoenami weer. “Kry nog mense daar, sarge,” sê Griessel oor die foon. “Ek kom.” Griessel kyk terug na Joubert, die bekende, vonkskietende vuur in die oë. “Iemand het tien minute gelede ’n jong, wit fokker afgelaai by City Park se Ongevalle en toe weer weggejaag. Slagoffer is in die keel gesteek met ’n lem, hulle kan dalk net sy gat red, ek gaan ry, Mat …” En Griessel begin hardloop. “Ek doen die toneel,” roep Joubert agterna. “Dankie, Mat,” Bennie se woorde deur die wind weggewaai. “Kry haar, Bennie,” skree Joubert, maar hy weet nie of Griessel gehoor het nie. Hy kyk na sy kollega se hardlopende figuur, so vasberade, so dringend, en weer voel hy die emosie – ’n heimwee, ’n hartseer, asof dit die laaste keer is dat hy vir Bennie Griessel sal sien.
38
Dit is Jess Anderson wat die stilte in die studeerkamer verbreek en hul kommer eerste verwoord. “Why doesn’t he call?” Bill Anderson wil nie sit nie; hy wil op en af loop om uiting te gee aan die spanning in hom. Maar hy kan nie, want hy weet dit sal sy vrou nog meer ontstel. Daarom sit hy langs haar op die bruin leerbank. Sy prokureursvriend, Connelly, en die polisiehoof, Dombkowski, het daarop aangedring dat hy bly, sodat hy daar kan wees as die Suid-Afrikaanse polisieman bel. Nou is hy spyt hy is nie saam na Erin se ouers toe nie. Dit was sy plig. Maar hy kon nie in hierdie omstandighede vir Jess alleen laat nie. “It’s almost forty minutes,” sê sy. “We don’t know how far he had to travel,” sê Anderson. “We could call him …” “Let’s give it a little more time.”
* * *
Hulle het haar op die sementvloer vasgedruk, vier van hulle. ’n Vyfde het ’n lem eers onder haar T-hemp ingesteek en dit weggesny, toe haar broek, toe haar onderklere. Dieselfde mes wat Erin se keel afgesny het, dieselfde hand, het haar moeiteloos kaalgestroop. Hulle het haar opgepluk en teen die dun staalpilaar vasgedruk, haar arms na agter gebuig en met iets vasgemaak, agterom die pilaar. Toe het hulle teruggestaan en al wat sy kon doen, was om af te sak, so ver as wat haar boeie haar toelaat, om haar skaamte te verberg, sodat sy kop onderstebo na die drafskoene aan haar voete staar.
“Where is it?” Sy antwoord nie. Hoor hom kom, voetstappe op die vloer, net twee treë, hy gryp haar hare, ruk haar kop op, sodat dit teen die metaal van die paal stamp, kniel hier voor haar. “Where is it?” kom die vraag weer. Haar linkeroog is toegeswel, seer. Sy fokus die ander een op hom. Sy aantreklike gesig is hier teen hare, kalm. Soos altyd. Sy stem dra net gesag, beheer. Haar afsku in hom is groter as haar vrees om dood te gaan. Dié insig kom skielik, dit verlos haar, dit bring die impuls om iets te doen, te skop, te spuug, sodat sy begin om speeksel in haar mond te versamel. Vir alles wat hy gedoen het, alles, wil sy dit met minagting en haat oor hom werp, maar sy bedink haar, sy is nie magteloos nie. Hulle kan haar nie doodmaak nie nie. Nie nou nie. Nog nie. Sy kan tyd koop. Sy is nie alleen nie. I’m on my way, don’t open the door for anybody, I will call when I get there, please, Miss Anderson, die polisieman se stem, die sorg, die drang om haar te beveilig, te red. Hy is iewers, nou, besig om haar te soek, hy sal haar moet kry, op die een of ander manier sal hy uitvind wie dit is wat haar jag, dit is tog so voor die hand liggend, hy sal uitvind, hy sal haar kry. Sy antwoord hom deur haar kop stadig van kant tot kant te swaai. Hy vat haar hare in ’n ystergreep. “I’m going to hurt you,” sê hy. Op sy praktiese manier. “Go ahead.” Sy probeer haar stem net so gelykmatig soos syne hou. Hy lag, hier in haar gesig. “You have no idea …” Maak nie saak nie, dink sy. Laat hom lag. Hy los haar skielik, staan op. “Their luggage is still at the Cat & Moose …” “We should have taken that long ago.” “We didn’t know, Steve. You know what she said in the club … Where the fuck’s Barry? Call him, go get their stuff.”
“They’re not just going to give it to us, Jay.” Sy lig haar kop en sien hoe hulle na mekaar kyk. Daar is spanning tussen hulle. Steve, die swarte, knik eindelik sy kop, draai om en loop. Jay sê vir ’n ander een, wat sy nie ken nie: “There’s a tool shop one block up, right-hand corner …” Sy sien hoe hy sy hand in sy sak steek, ’n paar note uithaal en aangee. “I want pruning shears. We’ll cut off her toes. Then her fingers. Then her nipples. Pity, though. Great tits.”
* * *
Dit neem ’n rukkie voor Fransman Dekker vir Michéle Malherbe vra of sy by Adam Barnard geslaap het. Haar waardigheid oorrompel hom as sy by die kantoordeur inkom, sodat hy eers later besef sy is kleiner as wat hy gedink het. Haar hare is blond, kort geknip, haar gesig aantreklik, haar ouderdom onpeilbaar, tot hy later na haar hande kyk en besef sy moet laat vyftigs of vroeë sestigs wees. Sy stel haarself voor, luister aandagtig na sy rang en naam, gaan sit in een van die besoekerstoele met ’n aura van beheerste verlies. Dekker kan nie agter Barnard se lessenaar gaan sit nie, dit voel verkeerd op daardie oomblik. Hy neem plaas in die ander besoekerstoel. “Dis ’n groot verlies, inspekteur,” sê sy, haar elmboë op die stoel se leuning, haar hande saam in haar skoot. Hy kan sien sy het iewers vanoggend gehuil. Hy wonder, onmiddellik, waarom só ’n vrou vir Barnard kon looi. “Dit is,” sê hy. “U het hom baie goed geken?” “Amper vyf-en-twintig jaar.” “Ek … e .. mevrou, ek verstaan u ken die bedryf baie goed, die omstandighede …”
Sy knik, haar gesig ernstig en gefokus. “Waarom sou iemand vir hom wou …” Hy soek na ’n eufemisme. “ … om die lewe bring?” “Ek dink nie Adam se dood het enigiets met die bedryf te doene nie, inspekteur.” “O?” Sy lig haar regterhand in ’n klein gebaar. Daar is ’n enkele, elegante ring aan die middelvinger. “Ons is miskien ’n emosionele klomp. By verstek. Musiek is tog maar emosie, is dit nie? Maar daar is in essensie nie ’n groot verskil tussen die musiekbedryf en enige ander nie. Ons stry, ons baklei, ons spook met mekaar, ons sê en doen soms dinge wat kon gebly het, maar dit gaan mos maar oral só. Die enigste groot verskil is dat die media ons … sondes makliker aan die groot klok hang …” “Ek is nie seker ek verstaan nie.” “Ek probeer sê ek kan nie aan ’n enkele rede dink waarom enigiemand in Adam se wêreld hom wou vermoor nie. Ek kan aan niemand dink wat daartoe in staat is nie.” Hy trek sy asem in om te reageer, maar sy maak weer dieselfde gebaar en sê: “Ek is nie naïef nie. Ek het al geleer: Ons natuur laat toe vir enigiets. Maar as jy ’n kwarteeu lank saam met mense werk, sien jy al hulle kante, dan doen jy ook ’n sekere hoeveelheid mensekennis op waaruit jy onder hierdie omstandighede kan put.” “Mevrou, die manier hoe dié ding gebeur het … Dit dui daarop dat dit iemand was met goeie kennis oor Adam se huislike omstandighede.” Sy kyk nie weg nie. Haar oë is ’n ligte bruin. Haar sensualiteit is subtiel, dink hy, miskien in die kombinasie van die kennis waaroor hy beskik en hierdie verfyndheid. “Ek is nie seker waarna jy verwys nie.” “Hulle het geweet van sy vrou, byvoorbeeld …” Haar glimlag is simpatiek. “Inspekteur, ongelukkig is dierbare Alexa se omstandighede algemene kennis. Veral in die bedryf.”
“Het Barnard daaroor gepraat?” Gedempte verontwaardiging: “Adam sou nooit droom om so iets te doen nie.” Hy wag. “Ek kan verstaan as die media dit laat lyk of dit ’n omgewing is waarin mense nie vir mekaar omgee nie, inspekteur, maar dit is ’n skewe beeld. Daar is baie van ons wat nog kontak het met Alexa, wat gereeld probeer om te kommunikeer, wat bly hoop sy sal … herstel. Sy is ’n wonderlike mens.” “U is een van hulle?” Sy knik. “Maar ek verstaan u was ook meer as net vriende met Adam Barnard?” Aspris. Sy kyk met teleurstelling na hom. En dan staan sy op, met groot waardigheid. “Ek sal my regsverteenwoordiger se nommer by Natasha laat,” sê sy en loop stadig en statig deur toe, maak dit oop en weer saggies agter haar toe. Hy sit vir die deur en kyk met ’n sekere afkeer van homself. En die wete dat hy geen idee het wat om nou te doen nie.
* * *
Die verpleegster by Ongevalle sê vir Griessel hy sal met die superintendent moet praat en hy sê sy moet die man bel. Dit is nie ’n man nie, sê die verpleegster met ’n houding en Griessel sê hy gee nie om wat dit is nie, sy moet bel. Sy skakel ’n nommer, fluister oor die telefoon, sit dit neer en sê die superintendent is in ’n vergadering, die houding nog ’n paar grade aangedraai. “Juffrou, ek het ’n vrouespeurder wat in daardie selfde teater lê met twee skietwonde en ek weet nie of sy dit gaan maak nie. Ek het ’n negentienjarige Amerikaanse meisie wat ontvoer is deur mense wat vanoggend haar vriendin se
keel in Langstraat afgesny het. Daardie …” en hy moet die drang om “fokker” te sê met groot moeite onderdruk terwyl hy met sy duim oor sy skouer na die operasiesaal wys, “… mannetjie daar binne is my enigste manier om haar te kry voor hulle haar ook doodmaak. Nou sê ek vir jou, as sy iets oorkom omdat julle die gereg dwarsboom, slaap julle vanaand almal in die vuilste, volste sel wat ek in die Skiereiland kan kry; ek hoop jy verstaan my nou baie mooi.” Sy sluk haar houding af, haar oë groot, vat weer die telefoon, bel die nommer en sê: “Julie, ek dink dr. Marinos moet nou dadelik ICU toe kom.”
* * *
By die hek van die Metro-polisie se voertuigskut maak die jong verkeersbeampte in ’n glansryke uniform ’n vet groen lêer oop, blaai noukeurig daardeur, vee die toepaslike bladsy met sy palm plat en loop met sy vinger tot by ’n inskrywing op ’n amptelike vorm. “Ja, daardie betrokke voertuig is om presies 12:34 hier by my uitgeboek. En hier …” Hy blaai om, draai die lêer om sodat Vusi aan die ander kant van die toonbank kan sien. “… is die ontslagvorm, geteken en gestempel.” “Wie het dit geteken?” Die verkeersbeampte draai die lêer weer terug en bestudeer die handtekening. “Ek sal nie kan sê nie.” “Wie sal vir my kan sê?” “Jy sal by istrasie moet gaan hoor.” “Waar is istrasie?” “Daar. In die lisensiegebou. Maar jy moet met die trappe opgaan. Eerste verdieping.” “Dankie. Kan ek die vorm saamvat?”
Die verkeersman skud sy kop. “Daar kan ek jou nie help nie. Die vorm moet hier bly.” Vusi vermoed eers die man maak ’n grap. Maar daar is nie ’n sweem van humor nie. “Is jy ernstig?” “Hierdie lêer is my verantwoordelikheid. Regulasies.” “Meneer …” “Dis inspekteur.” “Inspekteur, ons werk aan ’n moordsaak én ’n ontvoering, ons tyd is besig om uit te hardloop …” “istrasie het ’n duplikaat van die vorm, gee net vir hulle die saaknommer.” Vusi wonder waarom die man dit nie in die eerste plek vir hom kon gesê het nie. Hy haal sy sakboekie uit, maak dit oop, knip sy pen uit en vra: “Kan jy die nommer vir my gee, asseblief?”
* * *
Mat Joubert trek rubberhandskoene aan, buk by die oop deur van Mbali Kaleni se Corsa en tel eers die koeëldoppies op in die voetruimte en langs die sitplek. Dan teken hy die syfer in sy notaboek aan. Hy hoor die geskuifel van Dik en Dun van Forensies se voete op die teer hier langs hom, waar hulle die ander doppies elkeen met kryt omkring en ’n klein plastiekdriehoek met ’n nommer daarop langs elke groepie doppies plaas. Hulle werk in stilte. Hy staan op, steek sy bolyf by die Corsa in, druk teen die kopstut en die stuurwiel. Kaleni se groot swart handsak lê op die asiersitplek, voor. Bo-op lê ’n A5-notaboek, die blaaie teruggeslaan op die spiraal, bloed aan die boonste bladsy, fyn spatsels, iets geskryf.
Hy tel die notaboek versigtig op, beweeg uit die binneruim, staan buite regop. Hy trek met sy linkerhand sy leesbril uit sy hempsak, flik dit oop, plaas dit op sy neus en staar na die drie letters, geskryf in ’n bewende hand, bokas: JAS. Hy roep vir Jimmy, die lang, maer forensiese tegnoloog. “Ek soek ’n bewyssakkie.” “Ek bring, Sup.” Met geesdrif. Waarom kla die speurders oor Dik en Dun? Hulle het hom nog nooit moeilikheid gegee nie. JAS. Onpeilbaar. Jimmy bring ’n deurskynende ZipLoc-sakkie, hou dit oop. Joubert plaas die notaboek daarin sodat die geskrewe letters sigbaar is. Jimmy rits dit toe. “Dankie, Jimmy.” “Plesier, Sup.” Joubert gaan buk weer by die oop deur, loer onder die sitplek in. Daar lê ’n pen, niks anders nie. Hy haal sy eie pen uit sy sak uit, gebruik dit om die een onder die sitplek nader te krap, tot hy dit met sy vingers kan vasvat. Hy hou dit só dat hy deur sy leesbril kan sien. Mont Blanc Starwalker. Cool Blue. En op die vlootblou skag van die pen is twee vae bloedafdrukke. Hy draai om, loop na Jimmy toe terwyl hy die bewysstukke oordink. Die bloed op die notaboek sê nie noodwendig iets nie. Maar die afdrukke op die pen … Mbali Kaleni het die letters J, A en S geskryf nadat sy gewond is. JAS? Zoeloe? Hy vat sy selfoon; hy sal moet uitvind.
39
Die superintendent van die City Park-hospitaal, ’n goedversorgde vrou in haar veertigs, knik haar kop net drie keer terwyl Griessel praat en sê: “Kaptein, ’n oomblik, asseblief,” en loop haastig deur die glasdeure waarop staan Operating Theatre. Personnel Only. Bennie kan nie stilstaan nie. Hy loop tot by die verpleegster se toonbank, weer terug na die teaterdeure. Laat die fokker leef, asseblief, net lank genoeg dat hy kan kry wat hy wil hê. Hy kyk na sy horlosie. Amper vyf-en-twintig voor drie. Te veel tyd het al verloop vandat hulle haar het. Te veel moontlikhede. Maar hulle het Rachel Anderson nie geskiet nie, want hulle wil iets hê; dit is sy enigste kans, sy enigste hoop. Aan die periferie van sy bewussyn flits iets verby, spookbeelde, vlietend, ontasbaar, sodat net die indruk oorbly: Vanoggend. Hy gaan staan stil, maak sy oë toe; wat is dit? Asof sy kop wil sê nee, die gewonde fokker is nie sy enigste hoop nie. Daar’s iets anders. Hy moet teruggaan na die begin toe. Vanmôre, wat het gebeur? Op die kerkterrein? Wat was die belangrike goed? Die rugsak, van Erin Russel afgesny … Die superintendent kom by die deure uitgebars, loop na Griessel toe, begin al op ’n afstand praat. “Kaptein, sy karotiede arterie is raak gesny, ongelukkig redelik hoog, waar dit nie baie beskerming het nie. Hy het geweldig baie bloed verloor, ons het ’n Kode Blou daar binne gehad, maar hulle kon hom resussiteer. Sy toestand is kritiek, hulle is steeds besig om die wond te probeer heg, dit is in die omstandighede ’n baie moeilike prosedure, veral omdat sy bloeddruk so laag is en die bloeding nog nie heeltemal stopgesit kon word nie. Maar ek is bevrees daar is geen kans dat jy met hom sal kan praat binne die volgende vyf, ses uur nie. En selfs daarna twyfel ek of kommunikasie sinvol sal wees. Sy stembande is klaarblyklik ook beskadig, hulle weet nog nie in watter mate nie.” Hy verteer die inligting, frustrasie druk ’n vloekwoord na die oppervlakte, hy sluk dit af.
“Dok, sy klere, ek soek sy klere, enigiets wat hy aan hom gehad het.”
* * *
“I’m going to call,” sê Bill Anderson beslis, staan skielik van die leerbank af op en loop na die telefoon op die lessenaar. Hy kyk na die nommer wat hy neergeskryf het, tel die gehoorstuk op en druk die syfers in. Hy staan en luister na die aanvanklike stilte op die lyn, dan die glashelder geluid van die lui aan die onderpunt van ’n ander kontinent.
* * *
Griessel se selfoon lui en hy kyk na die skerm, sien dit is MAT JOUBERT, en antwoord: “Mat?” “Bennie, ek weet nie wat dit beteken nie, maar Mbali Kaleni het die woord ‘jas’ in haar notaboek geskryf, en ek is redelik seker dit was nadat sy geskiet is. Daar’s bebloede vingerafdrukke op die pen en bloedspatsels op die notaboek. Ek het gedink dit kan Zoeloe wees, maar dit lyk nie so nie.” “Jas?” En dan hoor hy die sagte luitoon van nog ’n inkomende oproep. “Mat, hou net aan,” en sien die lang nommer, die vreemde kodes en hy weet wie dit is. Ai, Here. Hy kan nie nou met hulle praat nie, hy kan nie, wat gaan hy sê? Wat kan hy sê? Jammer? Hulle sal diep bekommerd wees omdat hy nog nie gebel het nie. Dit is hulle kind. Hulle het die reg om te weet. “Mat, ek bel jou terug,” en hy ruil die oproepe en hy sê: “Mr Anderson?”
“Oh, thank God, Captain, we were getting very worried. Is Rachel O.K.?” Nie ’n vraag wat hy nou wil antwoord nie. “Mr Anderson, Rachel wasn’t at the address she gave me. We are still trying to track her down, but we are making good progress.” “She wasn’t there? How is that possible?” “I don’t know, sir. I honestly don’t know.”
* * *
Die twee jong mans kom by die Cat & Moose Youth Hostel ingestap, vol vuur en selfvertroue, tot by die plompe vrou by die ontvangstoonbank. “Hi,” sê die swart een vir haar en glimlag. “We’ve come for Rachel’s stuff.” “Who?” “Rachel Anderson, the American girl. You know, the one who was missing.” “Are you from the police?” “No, we’re friends.” “Don’t I know you?” vra die mollige meisie. “I don’t think so. So where is her luggage?” “Down there, in their room, with the police. Did they find her?” “With the police?” en die vriendelikheid huiwer. “Yes, they’re guarding it. Guns and everything. You’ll have to talk to them. Did they find the girl?”
Hulle antwoord haar nie. Hulle kyk vir mekaar. En dan loop hulle uit. “Hey!” roep die meisie, maar hulle kyk nie eens om nie. Sy kom agter die toonbank uit en draf om, en uit by die deur, tot op Langstraat se sypaadjie. Sy sien hoe hulle haastig stap, een keer omkyk, en om die hoek verdwyn. “I know you,” sê sy vir haarself en dan gaan soek sy met groot haas die twee mans in uniform wat by die bagasie waak.
* * *
Hy wil haar drafskoene uittrek. Sy druk haar voete met alle mag teen die sementvloer vas, sodat hy swets, langs haar gaan staan en met groot geweld haar voete met sy stewels onder haar uitskop. Haar bene skiet vorentoe en sy val hard op haar kaal sitvlak. Sy beur dadelik boontoe, sy wil regop kom, haar voete weer onder haar inkry, maar een van die ander het haar bene vasgegryp, hou dit verbete vas. “Jesus, you’re a piece of work,” sê Jay vir haar. Sy spoeg na hom, maar mis. Sy probeer haar bene losruk. Dit help nie. Jay begin haar veters lostrek, ruk dan die skoen van haar voet af. Hy trek sy neus op vir die reuk. “Don’t you Yankee bitches ever change your socks?” Sy spoeg weer, oneffektief. Hy kry die tweede veter los, verwyder die sportskoen, gooi dit eenkant, trek albei sokkies uit. “You had better come hold one leg,” sê hy vir die derde man, “because this is going to drive her nuts.” Hy strek om die snoeiskêr by te kom, ’n groot instrument met groen handvatsels. “O.K, one last time: Where is the video?” “Dead and buried,” sê sy. Nou is daar twee wat haar bene vashou, met hul volle gewig, sodat haar hakke pynlik teen die sementvloer druk.
“No,” sê Jay vir die een. “I want her to see what I’m doing. Move a little.” Hy gryp haar regtervoet, sy hand om die voetkussing en die groottoon. Hy bring die snoeiskêr nader, kyk vir haar, plaas die lemme om die kleintoontjie. Sy ruk met alle mag. Hulle is te sterk vir haar. Hy maak die skêr se handvatsels toe. Die pyn is onmiddellik en intens, sodat sy teen haar wil skree, ’n geluid wat sy nie geweet het in haar is nie. Die bloed laat die toon aan die silwer lemme vassit. Jay skud die skêr, sodat die stukkie vlees en nael in die stof val. “This little piggy …” sê die een wat haar regterbeen vasdruk en giggel, senuagtig. Sy huil, histeries. “Where’s the video?” vra Jay, uitdrukkingloos, en vat weer haar voet vas. “Fuck you,” gil sy. Hy grynslag, gryp haar voet stewig vas, druk die snoeiskêr onder die volgende toon en knip dit af. “In my big bag,” skree sy, want die pyn, die brutaliteit en die vernedering is te veel. “Good. Where is the bag?” “At the youth hostel.” En dan lui Jay se selfoon en al vier van hulle ruk van die skrik.
* * *
Die superintendent kom terug deur die glasdeure, bebloede kledingstukke in ’n groot, deurskynende plastieksak. Griessel sê vir Bill Anderson: “I am really sorry, but I have to go. If there is any news, I will call you, I promise.”
Stilte oor die lyn. “I don’t think your promises mean all that much,” en dan die hoorbare klik as die Amerikaner die telefoon neerplak. Griessel staan versteen, verskeur tussen die onregverdigheid en sy wete dat hy ook só sou gevoel het, as ’n pa. Die superintendent hou die sak na hom toe uit. “Kaptein, dit is alles, ek weet nie of dit jou sal help nie.” Hy kom tot verhaal, druk die selfoon in sy sak, neem die plastieksak. “Julle het nie dalk ’n paar rubberhandskoene hier rond nie?” “Juffrou, kry vir die kaptein ’n paar chirurgiese handskoene,” beveel die dokter. Die verpleegster draf in die gang af. “Sal dit al wees, kaptein?” “Dok, my kollega, inspekteur Kaleni?” “Die swart vrou?” “Ja. Is daar al nuus?” “Haar kanse is beter as die jong man daar binne. Die vuurwapentrauma teen haar nek … dit lyk of die kakebeen die projektiel gedeflekteer het, sodat dit net die wand van die eksterne karotiede arterie beskadig het, bokant die vierde servikale vertebra. En sy het klaarblyklik behandeling op die toneel gekry om die bloeding te beheer, wat ’n groot verskil gemaak het.” “Gaan sy dit maak?” “Dis nog te vroeg om te sê.” Die verpleegster bring die handskoene. “Dankie,” sê hy. “Laat weet my as julle enigiets nodig het,” sê die superintendent en loop na die hysbak toe. “Baie dankie, dok,” sê hy, plaas die groot plastieksak op die verpleegster se toonbank en trek die handskoene haastig aan. Dit lyk na ’n broek, hemp, bruin leerstewels … Hy maak die sak oop, trek die hemp uit. Wit T-hemp, donker van die bloed. Dit beteken geen hempsak nie. Hy trek die skoene uit die sak, plaas hulle eenkant. Dan die broek, ’n denim, met ’n verweerde bruin leergordel. Hy
voel in die sakke, haal ’n bossie sleutels uit, kyk daarna. ’n Motorsleutel, waarop Mazda staan, vier ander sleutels – twee wat huisdeure sal oopsluit, twee kleineres. Vir slotte? Help niks. Hy plaas die sleutels langs die skoene. Niks verder in dié sak nie. In die ander kry hy ’n wit sakdoek, skoon en netjies opgevou. Hy draai die broek om, voel dadelik die gatsakke is leeg. Maar daar is iets aan die gordel, swaar, ’n skede van roesbruin leer, met ’n flappie wat iets toevou. Hy knip die flappie oop. Aan die binnekant van die flap is iets geskryf, maar hy bepaal hom eers by die inhoud van die skede – ’n Leatherman, lyk dit. Hy trek dit uit. Rooi handvatsels, waarop staan Leatherman en Juice Cs4. Die gereedskap is nie nuut nie, die spore van gebruik daarop. Vingerafdrukke, hy sal vingerafdrukke daarvan kan kry. Hy bepaal hom weer by die flappie, lig dit op. Drie letters is daarop aangebring, met ’n permanente inkmerker: A.O.A. Voorletters? Wat is jou naam, fokkertjie? Andries? Hy dink aan Joubert, aan die woord wat Mbali uitgekrap het. Jas. Hy sal vir Mat moet terugbel, maar laat hy klaarmaak. Hy plaas die Leatherman terug in die skede, wend hom tot die plastieksak. Net ’n onderbroek is oor, en ’n paar kouse. Hy haal dit uit, draai dit in sy hande, soek na nog voorletters, ’n wasgoed-etiket, enigiets, maar daar is niks. A.O.A. Jas? “Juffrou,” sê hy vir die verpleegster, “jy het nie dalk ’n klein plastieksakkie nie?” Hy trek die bruin gordel van die denim los, haal die skede af. Sy knik, boetedoenend, gretig om te help ná die superintendent se mooi voorbeeld, krap onder haar toonbank, bring ’n leë pillesakkie te voorskyn. “Dis perfek,” sê Griessel, “baie dankie,” en plaas die Leatherman, skede en al, in die sakkie. Dan sit hy die sakkie in sy hempsak. Hy druk die kledingstukke terug in die groot sak, kyk op. Die verpleegster staar met groot intensiteit na hom, asof hy enige oomblik ’n wonderwerk gaan verrig. Hy trek die rubberhandskoene af, huiwer, waar kan hy dit weggooi?
“Gee dit vir my,” sê sy sag. Hy knik sy dankbaarheid, gee vir haar, haal sy selfoon uit sy sak, bel vir Mat Joubert. “Bennie,” sê die diep stem. “Jas?” sê Griessel. “J.A.S. Net die drie letters. Het jy iets gekry?” “Nog drie letters. A.O.A. Met punte tussenin.Ek dink dis die fokker se voorletters.” “Of ’n afkorting.” “Kan wees.” “J.A.S. kan ook ’n afkorting wees, ek weet nie …” ’n Vonk in Bennie Griessel se agterkop, twee goed wat bymekaarkom … Dan weer platval. “Sê weer?” “Ek sê J.A.S. kan ook ’n afkorting wees.” Niks, die gewaarwording weg, geen teken daarvan nie. Sy selfoon lui sag in sy oor. Wie nou? Hy kyk. Dit is Caledonplein se radiokamer. “Mat, ek het nog ’n oproep, ons praat,” en hy manipuleer die foon se sleutels, sê: “Griessel,” en die sersant sê: “Kaptein, twee ouens het nou net probeer om die meisie se bagasie by die Cat & Moose te kry,” en Griessel se hart ruk. “Het julle die dose gevang?” “Nee, kaptein, hulle het weggehardloop, maar die manager sê sy ken die een.” “Jissis,” sê Griessel, gryp die plastieksak en begin hardloop. “Ek is op pad.”
“Reg, kaptein.” “Hoe de hel weet jy van die kaptein?” vra Griessel as hy by die deur uitstorm, in die straat in, en amper twee skoolmeisies onderstebo stamp. “Good news travels fast,” sê die sersant, maar Griessel hoor hom nie, hy is te besig om vir die meisies om verskoning te vra.
40
Die vrou by Kaapstad Metropolitaanse Polisie: istrasie trek die form fronsend uit die lêer en sê: “Dis snaaks …” Vusi wag dat sy moet verduidelik. Sy plaas die vorm ingedagte eenkant en blaai deur die lêer, soekend na iets. “Ek kon tog nie …” sê sy. “Mevrou, is daar fout?” “Ek kry nie die kwitansie nie.” “Watter kwitansie?” Sy plaas die lêer eenkant, begin dokumente uit ’n in-mandjie trek wat drie dekke hoog staan. “Die vorm sê die skut- en verkeersboete is betaal …” “Sal dit nie help as ons weet wie se handtekening dit is nie?” “Hierdie mense … hulle teken almal soos krappe,” steeds soekend in die inmandjie se dekke, kry niks, vat die enkele vel, kyk daarna, druk ’n vingernael op die vorm. “Kyk, die blokkies is al twee duidelik gemerk – verkeersoortreding, boete vereffen, en skut-vrystellingskoste. Maar daar is nie ’n kwitansie nie …” “Is dit al manier hoe iemand ’n voertuig uit die skut kan kry?” “Nee, die ander opsies is ‘Hofbevel’ en ‘Suksesvolle vertoë’,” en sy wys na die toepaslike blokkies. “Maar dan is daar ook dokumentasie ter bevestiging …” “Mevrou, die handtekening …” Sy tuur na die gekrabbel onderaan die vorm. “Lyk soos … ek weet nie, kan Jerry wees …” “Wie is Jerry?”
“Senior inspekteur Jeremy Oerson. Maar ek is nie seker nie … dit lyk soos hy.” “Kan ons probeer uitvind?” “Jy sal moet uitvind, ek is toegegooi.” “Kan ek ’n afskrif van die vorm kry?” “Dit sal vyf rand wees.” Vusi reik na sy beursie. “Nee, jy kan nie vir my betaal nie, jy moet eers by die kassiere op die grondvloer gaan betaal, dan bring jy die kwitansie.” Inspekteur Vusi Ndabeni kyk na haar, die sluimerende ongeduld ontwaak stadig. “Dit is dalk makliker om net vir Oerson te vra,” sê hy. “Hulle is op die tweede verdieping.”
* * *
Fransman Dekker sien vir Griessel om die hoek by die City Park-hospitaal draf en hy roep Bennie se naam, maar dan is die wit speurder weg en Dekker dink dit is dalk beter só. Want hy wil voor begin, hy wil die terrein nagaan wat Griessel vanoggend gedek het. Hy gaan weer met Alexandra praat, dit maak nie saak hoe hy dink oor die hele saak nie, dit was iemand naby aan Adam Barnard. Binnekennis. En nie die soort waarna Michéle Malherbe verwys het nie. Ongelukkig is dierbare Alexandra se omstandighede algemene kennis. Veral in die bedryf. Hy ken haar soort, die see, hear, speak no evil, solank dit net nie inmeng met die do a little evil nie. Het daar gesit met haar groot waardigheid, kyk, ek’s ’n stoere boerevrou, pilaar van die gemeenskap, diep bedroef, maar sy’t vir Barnard gelooi toe hulle al twee getroud was. En hy wat Fransman Dekker is, weet dié wat só lyk, kleertjies soos ’n non, vroom, afkeurend, dis hulle wat wildekatte in
die bed is. Hy’t een gehad, verlede jaar, wit vrou in Welgemoed, bure van ’n motorkapingslagoffer. Hy’t aan die deur gaan klop op soek na ooggetuies. Sy wou skaars oopmaak, grootoog agter haar bril, bloes tot teen die keel geknoop. Net oor die veertig, huisvrou, kinders by die skool, man by die werk. En toe hy klaar sy vrae gevra het, toe’s daar iets aan haar, ’n onwilligheid om hom dadelik te laat gaan. “Wil jy tee hê?” kan hom nie in die oë kyk nie. Toe weet hy, want dit was nie sy eerste ervaring van daardie soort nie. Toe sê hy “dankie”, al klaar reg, nuuskierig oor wat onder die kuise klere aangaan. Toe manipuleer hy die gesprek: “Dis seker eensaam so by die huis,” en voor die koppies leeg was, toe praat sy oor haar huwelik wat stotter en hy het geweet watter geluide om te maak, hoe om haar voor te berei, oop te maak. Tien minute later, toe vat hulle mekaar, toe’s sy honger, honger, honger, hy moes haar hande vashou, ’n rugkrapper. “Ek’s getroud,” moes hy haar probeer keer. Lieflike lyf. Wildekat. Die woorde wat sy gebruik het terwyl hy haar op daardie groot wit sitkamerbank gespyker het. Hy haal sy SAPS-eieningskaart uit, hou dit sodat die vrou by City Park se ontvangs dit kan lees en sê: “Ek moet mevrou Alexandra Barnard sien.” “O,” sê sy, “net ’n oomblik,” en vat die telefoon.
* * *
By sy motor oorweeg Griessel dit vir ’n oomblik om die ses straatblokke te draf, maar nee, as hy weer van daar af moet jaag … Hy spring in, trek weg. Sy selfoon lui. Hy vloek, sukkel om dit uit sy sak te kry. FRITZ. Sy seun. En op daardie oomblik daal die kennis van die aand weer op hom neer, sy afspraak met Anna om sewe-uur, sodat hy instinktief na sy horlosie kyk, kwart voor drie, nog vier uur, moet hy nie bel en sê dit sal nie vanaand werk nie? “Fritz?” sê hy en wonder of sy seun iets weet van Anna se missie. “Pa, ek is klaar met skool.”
“Hoe bedoel jy?” “Pa, ons het ’n vet gig gekry …” “Ons?” “Die band, Pa. Wet en Orde, dis ons naam, maar jy spel nie die ‘en’ nie, dis daai en-teken, Pa weet, wat soos ’n ‘s’ lyk.” “ ’n Ampersand.” “So iets. Wet & Orde, dis oor Pa se werk, dit was my idee, dink Pa nie dis cool nie?” “En nou gaan jy skool los?” “Ja, Pa, hierdie gig, ons open vir Gian Groen en Zinkplaat op ’n toer, Pa, hulle praat van vyf-en-twintig duisend vir ’n maand, dis meer as sesduisend per ou.” “En?” “En ek het nie meer skool nodig nie, Pa.”
* * *
Die oproep kom om 14:48 deur na die provinsiale kommissaris: Wes-Kaap se kantoor. Die klein Xhosa antwoord, gewaarsku deur sy sekretaresse: Dit is Dan Burton, die Amerikaanse konsul. “Mr Burton?” “Commissioner, could you please tell me what is going on?” Die kommissaris trek homself regop agter sy lessenaar. “Yes, sir, I can tell you what is going on. We have every available police officer in Cape Town looking for the girl. We have what we believe is the best detective in the Peninsula leading the task force, and they are doing everything in their power, at this very
moment, to try and find the young lady in question.” “I understand that, sir, but I’ve just had a call from her parents, and they are very, very worried. Apparently, she was safe, she called this Captain Ghree-zil, but he took his sweet time to get there, only to find her gone.” “That’s not the information I have, sir …” “Do you know what’s going on? Do you know who these people are? Why are they hunting her like an animal?” “No, we don’t know that. All I can tell you, is that we are doing everything we can to find her.” “Apparently, sir, that is not enough. I am really sorry, but I will have to call the minister, something has to be done.” Die kommissaris staan op agter sy lessenaar. “Well, sir, you are most welcome to call the minister. But I’m not sure what else we can do.” En dan sit hy die telefoon neer en loop uit, in die gang af, na John Afrika se kantoor toe. Op pad sê hy een woord in sy moedertaal, die klik van sy tong wat teen die mure af eggo.
* * *
Sy hoor nie hoe hulle anderkant die toe houtdeur argumenteer nie. Sy sit met haar kaal rug teen die paal, die pyn in haar voet is verskriklik, die bloed loop steeds uit die twee stompies, die twee tone lê op die sementvloer. Haar kop is omlaag, sy huil, vloeistof uit haar neus en mond en oë. Sy het niks oor nie. Heeltemal niks.
* * *
Hulle sê vir Vusi Ndabeni senior inspekteur Jeremy Oerson is uit, hy’s op sy selfoon bereikbaar. Met dieselfde nukkerigheid, ’n traak-my-nie-agtigheid, skaars verbloemde meerderwaardigheid wat hy nie kan verstaan nie. Dit gaan al die hele dag só – die poniestert by die klub, die Russiese vrou, die ou by die skut, die vrou by istrasie, niemand gee om nie, dink hy. In hierdie stad is dit net elkeen vir homself. Hy onderdruk die toenemende ongemak, die frustrasie. Hy moet probeer begrip kry vir dié mense, dit is al wat sal help. Hy neem die nommer, maar voor hy kan skakel, sê hulle: “Hier is hy nou.” Vusi draai om, herken die man – dis die een wat vanoggend by die kerk was, vreeslike uniform, nou nie meer so netjies nie, gesig blink van die sweet. “Inspekteur Oerson?” vra hy. “Wat?” Haastig, gesteurd. “Ek is inspekteur Vusumuzi Ndabeni van die SAPS. Ek is hier oor ’n voertuig wat om 12:34 by die skut uitgeboek is, ’n Peugeot Boxer-paneelwa, CA 409-341 …” “Wat het dit met my te doen?” Oerson hou aan met stap na sy kantoor toe, Vusi loop agterna, verstom deur die ingesteldheid. “Hulle sê jy het die vorm onderteken.” “Weet jy hoeveel vorms teken ek?” En Oerson gaan staan by ’n toe kantoordeur. Vusi haal diep asem. “Inspekteur, jy was vanoggend by die toneel, die Amerikaanse meisie …” “So?” “Die voertuig is gebruik om haar vriendin te ontvoer. Dit is ons enigste leidraad, sy is in groot gevaar.”
“Ek kan jou nie help nie, ek het net die vorm geteken,” sê Oerson skouerophalend en plaas ’n hand op die deurhandvatsel. “Hulle kom elke dag hier ingehardloop, daai meisies hier onder, en dan soek hulle iemand om te teken. Ek kyk net of alles reg is.” Agter die deur begin ’n telefoon lui. “My telefoon,” sê Oerson en maak die deur oop. “Was alles reg met dié voertuig?” “Anders sou ek nie geteken het nie.” Die telefoon lui. “Maar hulle sê vir my daar’s geen kwitansie of niks nie.” “Alles was reg toe ek geteken het,” en Oerson gaan by die kantoor in, maak die deur agter hom toe. Vusi staan. Hoe kan mense só wees? Hy druk sy hand teen die toe deur se kosyn. Hy moet hulle ignoreer, hy het ’n taak om te verrig. Wat hy nodig het om te doen, is om die hele proses van voor af na te speur. Waar begin jy as jy iets uit die skut wil hê, wie vat jou details, vra iemand vir ’n ID? Hy sug, reg om om te draai, hoor Oerson se stem daar binne iets sê wat bekend klink… . Cat and Moose … Wait, hold on … Vusi staan vasgenael. Die deur gaan skielik oop, Oerson se gesig vol beskuldiging. “Wat soek jy nog hier?” “Niks,” sê Vusi, en loop. Halfpad in die gang af kyk hy om. Oerson hang aan die deur om sy vordering te monitor. Vusi hou aan met stap. Hoor hoe die deur toegaan. Hy gaan staan eers by die trappe.
Die Cat & Moose? Wat het Oerson daarmee uit te waai? Toeval? Oerson was daar vanoggend, vroeg-vroeg. ’n Senior inspekteur van Metro. Hy’s die een wat die rugsak gekry het. Hy’s die een wat daarmee aangestap gekom het, vol bravade, hy’s die een wat daarin gekrap het voor hy dit oorhandig het. In die klub het Bennie Griessel met Fransman Dekker gepraat, gesê Dekker moet vir Oerson bel oor die rommelsak met goed wat hulle opgetel het. Oerson wat die vorm geteken het. Die houding, die arrogansie, die sweet op die voorkop. Cat & Moose. Slang in die gras. Vusi wonder of hy eers vir Griessel moet bel. Besluit daarteen. Bennie het duisend dinge om aan te dink. Hy draai om, loop terug na Oerson se toe deur.
41
Hulle sê vir Fransman Dekker hy kan Alexandra Barnard nie nou sien nie. “Dokter sê sy’s onder medikasie,” asof dit die brandende braambos self is wat die uitspraak gemaak het en dit irriteer die lewende hel uit hom uit. “Julle is behep met dokter, fok vir dokter” – dis wat iemand die een of ander tyd vir hulle moet sê, maar hy doen dit nie. Want Bennie Griessel se woorde het vandag deur hom getrek. Hulle sê jy’t ambisie, nou laat ek vir jou sê, ek het my fokken loopbaan weggegooi omdat ek nie beheer gehad het nie … Die eerste keer in sy lewe dat iemand só met hom praat. Die eerste keer dat iemand anders as sy ma die moeite doen. Hy’s al uitgekak deur die bestes, maar dit was anders, gewoonlik bloot afkeurend, kritiserend. Met Griessel was dit anders. “Wanneer sal ek haar kan sien?” vra hy die vrou, nou met beheer. “Dokter sê so iewers ná vier, dan behoort die medikasie uitgewerk te wees.” Hy kyk na sy horlosie. Tien voor drie. Hy kan net sowel iets gaan kry om te eet, hy’s hol van binne, dors ook, gee hom tyd om te dink, wat anders kan hy doen, hy’t vir Jos en Melinda laat huis toe gaan. “Ek wil weet as julle die stad verlaat,” het hy dreigend gesê en die verwytende oë geïgnoreer en hy het na Natasha Abader toe geloop en gesê: “Kan ek asseblief al die personeel se kontakbesonderhede kry,” en sy het na hom gekyk asof sy weet waarom hy dit wil hê. Hy loop uit die hospitaal uit met ’n groot honger in hom.
* * *
Vusi staan en luister buite Oerson se deur. Hoor hy praat Engels daar binne. But if they don’t know what they’re looking for, let’s wait. Sooner or later they’ll move the stuff. Lang stilte. Are we absolutely sure? ’n Kort, blaffende lag, smalend. En dan, die woorde wat Vusumuzi Ndabeni se hart laat ruk: Let’s make sure, and then kill the bitch. Before she fucks up everything. But wait for me, I want to see … Vusi se hand sak na sy dienspistool, vat dit, trek dit uit, hy lig sy linkerhand om die deur oop te maak, sien dit bewe, besef sy polsslag is wild, sy asem vlak, byna paniekerig. No, I’m fine. They have nothing, no proof. Oerson, daar binne, selfvoldaan. Dit laat Vusi eers huiwer, dan versteen. Want dit is al wat hy het, vermoedens, en woorde gehoor. Hy kry ’n glimps van die volgende minute, hy sal inbars, Oerson sal ontken, hy kan hom arresteer, hy sal weier om te praat, ’n regsverteenwoordiger kry, dit kan ure neem, die meisie sal dood wees. Oerson se woord teen syne. I’m coming, sê Oerson daar binne. Wait for me. Vusi Ndabeni roep fluisterend na Bo. Wat moet hy doen? Hy druk die pistool terug in die skede, draai om, hardloop in die gang af. Hy sal Oerson moet agtervolg. Terwyl hy vir Bennie bel. Here, hy moet net nie dat die man verdwyn nie.
* * *
Daar is nie parkering in Langstraat nie. ’n SAPS-patrollievoertuig staan al klaar dubbel geparkeer. Griessel trek twee wiele op die breër sypaadjie voor die Travel Centre – Safari Tour Specialists se gebou langsaan die Cat & Moose, spring uit, sien die boetebessie honderd meter af in die straat, weet hy gaan ’n kaartjie kry.
Prewel ’n wraakwens, sluit die kar, draf na die ingang van die gebou met sy skel kleure van oranje en pienk. Hy systap ’n jong paartjie wat in ’n vreemde taal by die deur praat. Die mollige meisie is agter die toonbank, besig om geanimeerd met twee uniformmense te praat, een van Caledonplein se patrollies. Hy draf tot by hulle. Sy herken hom nie. Hy moet eers sê: “Bennie Griessel, SAPS, ek was vanoggend hier, ek hoor jy het een van die ouens herken.” Haar gesig verander in ’n oogwink, van onsekere ontvangsdame terug na verontwaardigde getuie. “I’ve just been telling your colleagues, they just waltzed in here and said they were taking the luggage, can you believe it.” “And you recognised one of them?” “Tried to bluff their way past me, telling me they were her friends, did they think I was stupid?” “But you knew one of them?” “I don’t know him, but I’ve seen him. So I just said: ‘Why don’t you guys go talk to the SWAT team in there?’ and they, like, stopped dead, and the next thing …” “A SWAT team?” vra Griessel. “Yes, those buddies of yours guarding the luggage in there, and the next thing, they just waltzed right out again.” “Miss, where have you seen this man?” “Here …” En sy swaai haar hand. Griessel weet nie wat dit alles moet insluit nie. “In the hostel?” “Well, he might have been in here, but I’ve seen him around, you know, he’s in the industry, I’m sure.” “What industry?” “The tourist industry,” asof dit voor die hand liggend is.
“Look,” sê Griessel, desperaat dat hierdie nie ’n teleurstelling moet wees nie. “A girl’s life depends on the fact that we have to identify this guy, that you where you’ve seen him, so please …” “Really?” Die verantwoordelikheid kom lê op haar, die verontwaardiging wyk, geesdrif neem die plek daarvan. “Well, O.K, look … I, I know I’ve seen him at the café …” “What café?” “The Long Street Café.” “Does he work there?” “No, he was, like, a customer …” Diep peinsend, die oë op skrefies, die ene konsentrasie. Griessel probeer ’n ander aanslag. “O.K., can you describe him?” “He’s black. Tall. Handsome guy, you know, twenty-something …” En dan verhelder haar gesig. “He’s, like, lean, you know, that look … like all the guides, that’s most likely where I saw him, in the café with the others …” Maar Bennie Griessel luister nie meer nie, want die ontwykende, gladde, glippende goed in sy kop storm skielik op hom af, hy wil haar stil kry, hy sê: “Wait, wait …” “What?” sê sy, maar hy hoor haar nie, sy hand vryf deur sy hare, talm in sy nek. Krap agter sy oor, kop onderstebo, gedagtes deurmekaar, hy wil orde skep. Vanoggend … Griessel kyk na regs, waar hulle vanoggend met die rooikop Oliver Sands gesels het, dis wat sy kop die hele fokken middag vir hom probeer sê, dit was daardie gesprek. Hy probeer dit herroep, tas in die donker. Ollie het vertel van die klub, die meisies in die klub … Nee. Niks. Verkeerde spoor. Hy kyk na die meisie agter die ontvangstoonbank, haar uitdrukking afgehaal, sy’s stilgemaak. Sy het gesê he’s, like, lean, you know, that look, like all the guides, dit was die sneller. Die gidse. Wat het Sands daaroor gesê? Vusi het die vrae vanoggend gevra. Hy wou weet: Wie was by toe Sands en die meisies klub
toe was? Toe sê Sands ’n hele klomp. ’n Groep. En iewers het hy gesê die gidse was ook by. Hy fluister vir homself. “Jissis.” Want dié ding lê binne grypafstand, as hy dit net kan sien. Hy weet nie hy het ’n handgebaar van frustrasie gemaak nie; hy is onbewus van die twee uniforms en meisie wat met vae kommer op hul gesigte na hom staar. Griessel se selfoon begin lui. Hy ignoreer dit. Nie nou nie. Hy probeer die woorde van vanoggend se gesprek uit sy geheuebanke dwing, hy gaan staan by die toonbank, plaas sy palms daarop, laat sy kop sak. Die meisie staan ’n halwe tree terug.
* * *
Vusi Ndabeni, selfoon teen die oor, hoor Griessel se nommer lui terwyl hy kyk hoe Jeremy Oerson haastig by Metro se gebou uitkom en na sy kar toe loop. “Antwoord, Bennie,” sê hy en begin haastig na sy eie voertuig toe stap. Oerson klim in ’n Nissan Sentra met die stadspolisie se wapen op die deur. Die foon lui. “Asseblief, Bennie,” maar die oproep gaan na Griessel se stempos toe oor net wanneer Vusi sy motor se deur oopgesluit kry en inspring.
* * *
“Are you O.K.?” vra die Cat & Moose se vrou vir Griessel. Een van die uniforms snap wat aangaan en maak haar stil met ’n vinger op sy lippe.
Bennie staan. Hy en Vusi en Oliver Sands. By die tafel. Sands wat sê hulle het met die toer deur Afrika gekom. Toe praat hulle oor gisteraand. Die klub. Die meisies. Die drank. Wie was by? het Vusi gevra. ’n Hele klomp. Ken jy die name? Vusi met sy notaboek gereed, toe sê Sands … Die insig is ’n hamerslag; dit laat Griessel se hele lyf sidder. “Fok,” sê hy in triomf, hard, sodat die ander drie skrik. Want Oliver Sands het die name gegee, die snaakse name, die fokken uitspraak, dit was die spook wat die hele middag deur sy kop getrek het, die een naam, hy hoor dit nou, in Ollie se stem: Jason Dicklurk. Dicklurk. Vanoggend het Griessel by homself gedink: Wat ’n fokken snaakse naam. Dick Lurk. Maar die rooikop se uitspraak, dit was die probleem. Jissis, hy moes dit bymekaargesit het. Rachel Anderson se pa wat hom Ghree-zil, net die Boere kan hulle eie vanne sê. En een Zoeloe. Mbali Kaleni. Wat hom gebel het terwyl hy in daardie kantoor by die kommissaris gesit het. Dit is inspekteur Mbali Kaleni van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Bennie. Zoeloeaksent, maar haar uitspraak was foutloos. Ons het ’n Land Rover Defender gekry wat by die nommer pas. Dit behoort aan ’n man in Parklands, ’n meneer J.M. de Klerk. Dicklurk is De Klerk. J.M. de Klerk. Jason de Klerk. Een van die gidse. “The tour company,” sê hy vir die meisie. “Which tour company were the girls with?” “Tour company?” vra sy, geïntimideer deur Griessel se drif. “You know, the people who took them through Africa.” “Oh.” Vir ’n sekonde is daar ’n frons, dan verhelder haar gesig: “African Overland Adventures. That’s where he works, the black guy, that’s where I’ve seen him, they do all their Cape accommodation bookings with us, I sometimes go to see their …” “Where are they?” “Just one block down. My God, that’s where …” “Show me,” sê Griessel en hardloop deur toe. Sy kom agterna, gaan staan op die sypaadjie, wys na regs, oorkant die straat. “On the corner.”
“Kom, kêrels,” sê Bennie Griessel vir die uniforms en dan maak nog ’n insig in sy kop oop. A.O.A. African Overland Adventures. Sodat hy, op die ingewing van die oomblik, die mollige meisie op haar wang soen voor hy hardloop. Sy kyk hom sprakeloos agterna.
42
Fransman Dekker hap aan die geroosterde hoender-en-mayonnaise-toebroodjie in sy linkerhand terwyl hy in sy notaboek krap met die pen in sy regterhand. Alexa Barnard. Daardie houding vanoggend. Binnekennis. ’n Vrou wat bedags in haar huis wegkruip. Alleen. Eensaam. Suipend. Baie tyd vir dink, oor haar man, oor haar lewe, oor haar lot. Die man wat haar chronies verneuk het, die man wat nie sy hande van ’n ding in ’n rok kon afhou nie. Die man wat groot geld maak, terwyl sy sit en vrot by die huis. Moenie vir my kom sê sy het nie tyd gehad om te dink hoe die lewe sonder die doos sou gewees het nie, dink hy. Gegewe die nasionale sport: Huur ’n gekleurde om jou skietwerk te doen. Of jou steekwerk. Met ’n mes, natuurlik. Drie, vier sake net in die afgelope jaar. Dis ’n siekte, ’n fokken epidemie. Kom, Sylvia, kom gesels met die mêrrim, sê vir my waar kry ek iemand om die master te blaas? Of: Sylvia, ek sien jy dra die silwerware so lekker weg. Nou voor ek die cops bel, kom ek en jy praat eers oor ’n ander ding. Of: Die master se lewenspolis is vet, my ding. Watse soort share kyk ons na as jy ’n skieter moet gaan kry? Binnekennis. Twee vrouens met al die binnekennis in die wêreld. Net een probleempie: Jy huur nie mense om dit te laat lyk of jy dit gedoen het nie, in die gevleuelde woorde van speurder-kaptein Bennie Griessel. Ma’ kaptein, my kaptein, sê nou ma’ sy lees die koerante en sy sien hoe die ander girls foute gemaak het. En sy dink nee, ek trap nie in daai slaggate nie, ek’s te slim, ek’s ’n former pop star, ek’s nie stupid nie. Ek laat dit lyk soos ’n frame,
kaptein. Suspicion another step removed. Want die music business is ’n war zone, they’ll look at them before they look at me. And when they do look at me, ek’s ’n alkie, wa’ kan ek dié ou se groot lyf by die trappe opsleep. Wat sê jy daarvan, kaptein?
* * *
In die hardloop na African Overland Adventures, vleggend deur mense op sy sypaadjie, wonder Griessel vlugtig of dít is wat Mbali Kaleni wou geskryf het. Jason. Hoe het sy geweet? Waarom was sy terug Bo-Oranje toe? Wat het sy raakgesien wat al die ander gemis het? Net voor hy by die deure inbars, begin sy selfoon weer lui. Hy gaan nie antwoord nie. Hy gaan vir Jason de Klerk kry en dan vir Rachel Anderson. Sy moet nog leef.
* * *
John Afrika sit met die gehoorstuk in sy hand en hoor hoe Griessel se foon lui. Oorkant hom staan die provinsiale kommissaris. “As ons ’n fout maak …” sê hy. “Bennie is skoon,” sê Afrika. “John, dis my loopbaan waarvan ons praat.” “Dis Bennie, los ’n boodskap,” oor die foon. Afrika sug en plaas die gehoorstuk
neer. “Hy antwoord nie.” “Hulle gaan skoonmaak as Zuma inkom. Hulle gaan enige verskoning soek. Jy weet hoe dit is. Zoeloes in, Xhosas uit.” “Kommissaris, ek verstaan. Maar wat moet ek doen?” “Is daar niemand anders nie?” John Afrika skud sy kop van kant tot kant. “Selfs al wás daar, dis nou te laat.” Hy kyk na die telefoon. “Bennie is skoon.” Maar hy klink nie meer so seker van sy saak nie.
* * *
Jeremy Oerson draai links in Ebenezer. Vusi gee hom ’n rukkie, dan trek hy self weg, die spanning in hom, moenie dat die man verdwyn nie. Die Metro-Nissan is op pad Waterfront toe, onder die Westelike Boulevard se snelweg deur. Vusi ry stadig, hy mag nie te naby kom nie, ook nie te ver nie, moet sien waarheen hy draai. Oerson ry in die Hawepad-verkeersirkel in, dan regs uit. Hy’s op pad N1 toe. Vusi ontspan effens. Dit sal makliker wees.
* * *
Griessel stamp die dubbelglasdeur oop, die twee konstabels agter hom. African Overland Adventures se lokaal is ruim – lang toonbank, twee jong vroue en ’n man daaragter. ’n Platskerm-TV teen die muur, ’n paar koffietafels en
gemakstoele, nege jongmense wat staan of sit, sommige drink koffie. Almal kyk verskrik op. Griessel trek sy dienspistool uit voor hy by die toonbank is. In sy sak lui sy selfoon nog steeds. “SAPS. Staan net stil, dan het ons nie moeilikheid nie.” “What did he say?” kom ’n stem van die gemakstoele af. Hy draai om, sien die konstabels het ook vuurwapens in die hand. Hy knik, tevrede. “I said, just keep still and everything will be fine. Nobody’s leaving, and nobody is going to make a phone call.” Almal is stil. Ook Griessel se selfoon. Die klank van die TV trek sy aandag. Die groot skerm speel beelde van ’n Afrika-avontuur. Teen die mure is groot plakkate met tonele van die kontinent, laggende jong mense met berge, diere, mere op die agtergrond. Op die lang toonbank is houers met brosjures. “Please turn off the TV.” “Can we see some ID?” vra ’n meisie agter die toonbank, hardegat, soel skoonheid. Hy pluk sy eieningskaart uit, almal kyk deesdae TV, wonder of hy nie ook soos Kaleni dit om sy fokken nek moet dra nie. Die hardegat kyk daarna. “Is that real?” “What is your name?” “Melissa.” Uitdagend. “Please switch off that television, and then you call the police. Dial one zero triple one, and tell them Captain Bennie Griessel needs back-up at African Overland Adventures. Tell them to call the sergeant at Caledon Square.” “I’ll have to move,” sê Melissa. “The remote is under here …” “Then move,” sê Griessel. Sy strek, haal die afstandbeheer uit, rig dit op die TV. Griessel sien daar’s ’n doringdraad-tatoeëermerk aan haar boarm. Die vertrek raak stil. “Now call the police,” sê sy.
“It’s O.K. I believe you.” “Call them.” Sy loop teësinnig na die telefoon toe, tel dit op. “Which one of you is Jason de Klerk?” Dit neem ’n rukkie voor die ander toonbank-meisie sê: “Jason isn’t here.” “They’re not answering,” sê Melissa. “They will. Where is Jason de Klerk?” “We don’t know.” “All the men, I want you to show us your IDs.” Vir die konstabels: “Check them.” “Jason hasn’t been in since yesterday,” sê Melissa. “So where can he be?” “Your emergency number sucks. They’re still not answering,” sê sy ongeërg. Griessel ontplof. Hy loop tot teen die toonbank, strek sy lyf daaroor, sy gesig so na aan haar as wat hy kan kom. “Now you listen to me, you little shit: Jason de Klerk and his friends cut the throat of one of your clients last night, and they are going to kill again if I don’t stop them. Right now, I’m thinking you don’t know anything about it, but that can change very quickly, and you don’t want that, take my word for it. So I am going to ask you one more time: Where can I find him? And if you get clever with me again, you are going to be very fucking sorry, do you read me loud and clear?” Sy sluk sigbaar. “Yes,” sê sy. “He might be at home. He might be at the offices, or the warehouse, they are between trips, I just don’t know.” “The offices?” “Second floor. You use the entrance next door.”
“And the warehouse?” “Stanley Road in Observatory,” en dan antwoord die noodnommer eindelik en sy sê: “I’ve got an urgent message from a … what was your name again?”
* * *
Al drie kom weer by die deur in. Rachel Anderson kyk nie eens op nie. “Hold her legs,” sê Jason de Klerk en gaan tel die snoeiskêr op waar hy dit op die vloer gelaat het. Die ander twee gaan buk by haar, vat haar bene. “Rachel,” sê De Klerk, maar sy reageer nie. “Rachel!” “She’s fucked, Jay,” sê een van die ander. “We have to make sure.” Hy gaan kniel by die voet. “Rachel, listen to me. We have to make sure you’re telling the truth about the video, O.K.? This is very important, it really is a matter of life and death, do you understand?” Geen reaksie nie. Hy plaas die lemme om die basis van haar middelste toon aan haar regtervoet. “So tell me again, where is it?” “She’s not even hearing you.” “Please,” sê sy, byna onhoorbaar. “It’s in the big bag.” Hy sny die toon af. Haar liggaam ruk. “Jesus,” sê een wat haar bene vashou. “Are you sure,” Jason se stem steeds kalm. “Are you very sure?” “Yes, yes, yes, yes, yes, yes …” hard, histeries, haar liggaam in konvulsies. Hy vat nog ’n toon. “Exactly where in the bag?”
Daar kom ’n oergeluid uit haar. “For fuck’s sake, Jay, what more do you need?” vra die ander jong man, sy gesig vertrek met afsku. Jason klap hom, met die agterkant van die hand, woedend. “Do you know what’s at stake here, arsehole? You want to spend the rest of your life in prison?”
* * * Vusi Ndabeni volg vir Jeremy Oerson as hy die regterbaan neem met die N1 se Oostelike Boulevard en dan die afrit neem na die N2. Hy hou sy afstand, net oor die vierhonderd meter, met sewe motors tussen hulle. Hy tel sy selfoon op en bel weer vir Bennie Griessel.
* * *
Die “kantore” van African Overland Adventures op die tweede verdieping is agter ’n staal-veiligheidsdeur. Griessel druk die interkom-knoppie. ’n Vrouestem sê: “Ja?” Hy sê: “Polisie. Maak oop.” Die slotte klap, die deur gaan oop. Hy kyk dadelik of daar ’n ander uitgang is. Maar hy sien niks, net die drie vroue, lessenaars, rekenaars, liasseerkabinette. Hy hou sy ID-kaart uit. “Kom saam, asseblief, ondertoe.” “Maar hoekom?” Bekommerd oor die pistool in sy hand. “Ek soek na ’n Jason de Klerk?” “Hy’s nie hier nie.” “Ek weet. Kom.” Hy beduie met sy pistool. Hulle loop gedwee voor hom uit, trappe toe. Sy selfoon lui. Wie de fok soek hom so dringend? Hy trek dit uit. VUSI.
“Vusi, dis ’n slegte tyd.” “Bennie, ek is jammer, maar dinge het gebeur, ek dink ek agtervolg ’n ou wat op pad is na Rachel toe.” Griessel steek vas. Iets in Vusi se snelvuur-stem, die stortvloed woorde, die desperaatheid. “Jissis.” “Bennie, jy sal dit nie glo nie. Jeremy Oerson. Ek het hom hoor praat. Hy’s betrokke, ek weet nie hoe nie.” Jeremy Oerson? Hoe de fok? “Waar’s jy?” “Op die N2, net voor Groote Schuur. Hy’t nou net die afrit gevat, Main Road toe.” Observatory. Die pakhuis. “Vusi, ek dink hy gaan Stanleystraat toe, daar’s ’n pakhuis, African Overland Adventures. Bly by hom, Vusi, ek kom,” en Griessel se voete kletter by die trappe af, sodat die drie middeljarige vroue bang omkyk. “Bennie!” sê Vusi, beangs dat hy sal aflui. “Ek’s hier.” “Hulle gaan haar doodmaak, Bennie. Sodra Oerson daar aankom.”
15:12 – 16:14
43
Griessel sê vir die konstabels hulle laat niemand uit die avontuurwinkel nie, hulle weet nog nie wie almal betrokke is nie. As die versterkings kom, laat hulle die kantore daar bo afseël, geen rekords verlaat dié plek nie, geen oproepe gaan uit nie, laat daardie telefoon lui, niemand antwoord niks nie. Enigiemand wat inkom, moet bly. Hulle knik, geesdriftig. Uit by die deur, die besige normaliteit van Langstraat, druk die pistool in sy skede, draf vyftig meter, gaan staan skielik. Die verkeer. In daardie polisiesedan van hom, sonder sirene of lig. Hy draai om, systap mense op die sypaadjie, stamp weer die glasdeure oop. Elke oog in die plek op hom. Het julle patrollievoertuig ’n werkende sirene? Ja, kaptein. En die konstabel grawe in sy broeksak, haal die sleutels uit, gooi dit met ’n boog deur toe, na waar Griessel staan. Hy vang mis. Melissa maak ’n honende geluid, maar hy ignoreer dit, tel die sleutels op en ruk die deur oop en hardloop.
* * *
Daar is net een motor tussen Vusi Ndabeni en Jeremy Oerson as hulle by die verkeerslig stilhou waar Browning in Hoofweg uitmond. Vusi trek die sonflap af, sit so hoog as wat hy kan om daaragter weg te kruip. Oerson se flikkerlig is aan, om regs te draai. Waar is Stanleystraat? African Overland Adventures? En die Metro-polisie? Hy sien nie die verband
nie. Die lig verander na groen. Oerson ry. Vusi gee hom kans, honderd meter, dan trek hy weg, wil ook regs draai, maar ’n kar kom van voor af aan, hy moet wag. As hy ry, regs in Hoofweg, sien hy nie Oerson se Sentra nie. Onmoontlik. Vusi versnel, skielik weer gespanne, waar kon hy heen verdwyn het? Hy ry verby Polostraat wat links uitdraai, kyk daarin af, sien niks. Kyk regs, daar is geen opsies nie, net die Moslem-begraafplaas, dan die hospitaal. Hy ry verby Scottstraat se afdraai na links. Sien die Sentra, onder in Scott, ver. Vusi trap rem, te laat, hy is verby die afdraai. Hy stamp die motor in trurat, kyk om. Verkeer kom in Hoofweg af. Hy het nie ’n keuse nie, ry agteruit, vinnig. Twee minibustaxi’s pyl op hom af, die een blaas lank en hard op sy toeter, swaai agter die ander een in, mis Vusi rakelings, maar dan is hy ver genoeg terug, draai links in Scott, net betyds om Oerson ’n halwe kilometer weg te sien regs draai. Of was dit hy?
* * *
De Waal-rylaan gaan die vinnigste wees. Griessel gooi die skakelaars vir die sirene en die blou lig aan, trek met skreeuende bande weg. Die verkeer maak oop voor hom, verby St. Martini, die Lutherse kerk waar alles vanoggend begin het, dit voel soos ’n week gelede, wat ’n fokken dag. Die lig is rooi by die Buitensingel-kruising, hy ry net effens stadiger, motoriste sien hom kom, hy draai links, veg met die stuurwiel, in Oranje, meer verkeer. Bo-Oranje se kruising is ook rooi, dit neem hom kosbare sekondes om versigtig oor te kom, dan gee hy vet, oor die brug by die Tuine-sentrum, De Waal se kronkels wat voorlê, hy tel sy selfoon van die sitplek af op, hy moet vir Vusi bel, hy moet hulp kry, versterkings. Die taakmag, SWAT, soos die mollige meisie gesê het. Nee, dit gaan te lank vat, al mobiliseer hulle teoreties binne vyftien minute, dit gaan te laat wees.
Laat hy en Vusi net eers kyk wat aangaan. Vusi antwoord op die tweede lui. “Bennie.” “Waar is jy?” Sy swart kollega sê iets onhoorbaar. “Ek kan jou nie hoor nie.” “Stanleystraat, Bennie, ek wil nie te hard praat nie. Ek sien die warehouse. Hulle trokke staan daar. African Overland Adventures.” “Jy sal my moet sê hoe om te ry, Vusi, ek het nie ’n kaart nie.” “Dis maklik, Bennie, vat die Groote Schuur-afrit, regs in Main …” “Ek kom met De Waal, Vusi, dit gaan nie help nie.” Vusi sê iets in Xhosa, ’n noodkreet, dan vra hy: “Sal jy Main Road kry in Observatory?” “Ja.” Dan draai jy in Scott in … oostekant toe. Dan reg af, tot óór Lower Main, dan eerste regs en dan sien jy hulle.” “Ek kom.” “Oerson is al in, Bennie, jy moet jaag.”
* * *
Jeremy Oerson trek die groot skuifdeur net ver genoeg oop dat hy kan ingaan. Hy haal sy donkerbril af, druk dit in sy bosak, stoot die deur toe. Die groot pakhuisruimte is stil, die tente, slaapsakke, waterkanne, gereedskap,
die petroldromme, sandgrawe, domkragte alles in netjiese stapels. Eenkant, ’n nuwe, wit Land Rover Defender. “Halooo,” sê hy. Links en regs van hom kom twee mans agter ’n hoop goedere orent, elkeen met ’n Stechkin APS-pistool op hom gemik. “Christ,” sê hy en lig sy hande hoog. “It’s me.” Hulle laat die pistole stadig sak. Jason de Klerk kom agter die Land Rover uit. “I tried to call you, Jeremy.” “I’m a senior police officer, I can’t answer my cell when I’m driving.” “You’re a fucking traffic cop.” Hy ignoreer die opmerking. “Where is she?” “Mr B. wants to know: Can you get to the luggage?” Oerson loop dieper die pakhuis in, kyk rond. Agter ’n hoop tente sien hy nog een sit, nors, bloed teen die bolip. “Not now,” sê hy. “So what happened to him? Did she get rough?” “I didn’t mean now, Jerry,” sê Jason geïrriteerd. “But you can get it, right?” “Don’t worry, as long as they don’t know what they’re looking for, we’re fine. They’ll take it to an evidence room, and then it’s easy.” “How easy?” “I’ll grease a few palms, get some dumb fuck to go in and take it. Little video tape, slip it in your pocket, easy-peasy. Tomorrow, next week, this will be old news, girl’s gone, pressure’s off. Relax. Where is she?” “You absolutely sure?” “Of course I’m fucking sure. For a thousand bucks they’ll be standing in line to do it.”
“O.K.,” sê Jason en haal sy selfoon uit. “She’s still alive, isn’t she?” vra Oerson. “Because you guys owe me a favour.”
* * *
Wanneer die Roodebloem-afrit verbyflits, besef Griessel hy moes dit gevat het, deurgesny het Oostelike Boulevard toe, dan dieselfde roete as Vusi, dis nou te fokken laat. Die enigste alternatief is Liesbeek-parkweg, dan op in Stasieweg, maar dit gaan ’n minuut of twee, drie langer vat. Die bakkie se wiele kla om die laaste draai, voor De Waal by Hospitaaldraai aansluit, die verkeer dig, hy kry nie kans om te dink nie, wat is Jeremy Oerson se konneksie met die hele ding, hy ry amper ’n apteekmotorfiets moer toe, moet uitswaai, voor ’n ander kar in, toeters wat blaas, kan die dose nie die sirene hoor nie? Dan is hy om die draai, op die N2 se Setlaarsweg, swaai tot in die linkerkantste baan, nou gee hulle pad, hy trap die lepel. Jeremy Oerson? Metro? Afrikaavonture? Hoe de fok? Hy gaan die Liesbeek-afrit te vinnig binne, die draai skerper as wat hy onthou, die rooi van die verkeerslig heeltemal onverwags, motors wat hier reg voor hom oor die pad ry. Te laat om rem te trap. Die bakkie begin gly, hy gaan iemand stamp. Dan is hy tussen twee karre deur, pluk die stuurwiel om die ding onder beheer te kry, gee vet, gee vet. Anderkant uit. Hy sit die sirene eers af as hy in Lower Main indraai.
* * *
Bennie vat te lank. Vusi se motor staan halfpad tussen Scott en Stanley, op die sypaadjie getrek, sy dienspistool in sy regterhand op sy skoot, oorgehaal. Hy kan die pakhuis deur die windskerm sien – lang gebou, steenmure, silwer sinkplaatdak. Groot wit geverfde skuifdeure agter die vier vragmotors en vier sleepwaens, elkeen met die legende African Overland Adventures daarop. Groot goed, die sitdek hoog, bagasieruimtes daaronder. Sy’s daar binne. Waar’s Bennie? Miskien moet hy ingaan. Maar hoeveel is daar? Oerson, die een met wie die Metro-offisier oor die foon gepraat het. Hoeveel nog. Hy sit, sy asemhaling vinnig, sy hart ruk in sy bors. Hy trek die kar se sleutel uit die aansitter, klim uit, loop om, maak die kattebak oop en kyk op. Hulle sal hom nie kan sien nie. Daar is in elk geval nie vensters aan diékant nie. Hy plaas sy pistool in die kattebak, trek sy baadjie uit, vat die Kevlar-baadjie. Hy trek dit aan, neem sy pistool. Kyk op sy horlosie. 15:22. Laat. Hy sal iets moet doen. Hy neem ’n besluit, die meisie se lewe is die groot prioriteit. Hy ruk die pistool se slot terug en klap die kattebak toe. Hy gaan in. Dan hoor hy die gekerm van rubber op teer agter hom en kyk. ’n SAPSpatrollievoetuig om die hoek, kom reg op hom afgery, hou in ’n stofwolk op die sypaadjie stil. ’n Figuur spring uit, deurmekaar hare, vuurwapen in die hand. Bennie Griessel het gearriveer.
* * *
“Hey!” sê Jeremy Oerson, maar sy kyk nie op nie. Sy lê net daar teen die paal, poedelnakend, hy kan alles sien, die tiete, die boskaas tussen die bene, die regtervoet wat bloei, die drie tone wat daar in die stof lê, soos papies van ’n vet insek. Hy staan met sy bene wyd geplant in sy swart stewels, die pistool in al twee hande, op haar kop gemik. “Get her to look at me,” sê hy vir die een. “Just fucking get it over with.” “No. I want to see her face. Hey, Yankee, look at me.” Sy lig haar kop stadig op. Hare wat oor die voorkop hang in slierte. Hy sien die oog, toegeswel, blou en pers, droë bloed teen haar slaap af. “You guys really fucked her up,” sê hy. Haar kop is gelig, maar die oë is nog iewers anders. “Do it, Jerry.” “Look at me,” sê hy vir haar, sien hoe die oë styg na syne toe, druk die veiligheidsknip met sy duim af.
44
“Vat die agterkant, Vusi, daar moet ’n deur wees, ek gee jou kans,” sê Griessel in die hardloop en sien hoe die swart speurder regs swenk, na die hoek van die gebou toe. Hy kom tot langs die groot wit skuifdeur, druk sy rug teen die muur, dienswapen in albei hande voor hom, sy asem jaag. Hy moet dit eers onder beheer kry, hy tel, duisend-en-een, duisend-en-twee, duisend-en-drie, wil vir Vusi twintig sekondes gee. Hy bid. Liewe Vader, laat sy lewend wees. Duisend-en-sewe. Wanneer laas het hy gebid? Toe Carla in lewensgevaar was, toe is sy gebed net gedeeltelik verhoor, hy sal dit nou vat, enigiets, dat hy asseblief net vir Bill Anderson kan bel en sê: “Sy leef.” Duisend-en-twaalf en hy hoor ’n skoot en hy skrik, gryp die deur met sy linkerhand, ruk dit oop, buk, hardloop in. Hy sien die jong man reg voor hom, lank en lenig, ’n geknaldemperde loop wat na sy hart mik, hy weet in daardie oomblik dis alles verby, sy eie pistool net daardie enkele grade te ver regs. Die skoot klap en ruk vir Bennie Griessel van sy voete af. Sy rug slaan teen die deur vas, ontploffende pyn in sy bors, vlietend bewus van die eienaardigheid, eers die skoot gevoel, toe gehoor. Hy val grond toe. Die gevoel wat die hele dag al in hom is, die afwagting van onheil, hier is dit nou.
* * *
Oerson wag vir haar oë. Hy wil die laaste gesig wees wat sy sien. Hy wil weet hoe doodsvrees lyk, hy wil die lewenslig uit haar sien verdwyn. Maar bowenal wil hy weet hoe dit voel, die mag, hulle sê die mag is onbeskryflik, om ’n lewe te vat, hy wonder al so lank. Haar oë kyk in syne.
Hy sien nie vrees nie. Hy wonder of hulle haar ingespuit het. Sy lyk afwesig. “Rachel,” sê hy, om haar te laat fokus. Dan hoor hy die skoot. Hy kyk om, deur toe. Nog ’n skoot. “Shit,” sê hy.
* * *
Vusi hardloop om die eerste hoek, langs die kort kant van die pakhuis, dan die volgende hoek. Hoë vensters, twee meter van die grond af. ’n Enkele staaldeur, groot slot daaraan. Gesluit. Hy huiwer nie. Hy gaan staan vas teen die muur, mik, skiet die slot, een skoot, die 9 mm-projektiel ruk dit aan stukke. Hy pluk die deur oop. Skemer binne, ’n kleinerige vertrek, ’n kombuis, vuil glase en koffiebekers in die wasbak, ’n toe deur. Hy hoor ’n skoot, nie donderend nie, kleinkaliber? Bennie! Hy hardloop na die binnedeur, maak dit oop. Groot ruimte, apparaat in stapels. Baan van lig van die voorkant, die groot skuifdeur. Iemand lê daar, doodstil. Here, dis Bennie. Beweging, jong witte links van Vusi, lang wapen in die hand. “Staan!” Dit help nie, die man swaai om. Vusi skiet. Die man val, stadige aksie. Hy het nog nooit iemand geskiet nie, uSimakade, wat maak hierdie stad met hom? ’n Koeël klap langs Vusi in die muur vas. Kom van regs. Hy duik, agter dromme in, rol na regs, kom regop. Hy sien hom, nog ’n knaldemper-pistool se loop soekend na hom, hy trek die sneller, een, twee drie keer. Die man steier, val op ’n stapel plastiekkanne. Hy het nie ’n keuse gehad nie, dit was oorlewing. Hy het ’n man doodgeskiet, die besef swaar in hom. Hy kom stadig regop, sy oë op die stil figuur, hy sien die bloed wat uit die buik vloei, oor die wit plastiek van die waterkanne, lang strepe. Lewensbloed. ’n Skaduwee beweeg hier reg langs hom, hy kom terug na die werklikheid, te laat, die pistool druk teen sy kop. “Black cunt,” sê die stem.
* * *
Die verskriklike pyn in sy bors, Griessel kan nie beweeg nie, kan nie asem kry nie. Hy lê op die sementvloer. Dood gaan kom, alles verby, moes gewag het vir die taakmag. Aan die periferie ’n beweging, oorkant, probeer sy kop draai. Vusi. Donderende skoot, iemand val, verder regs. Alles in stadige aksie, onwerklik, vaag, verwyder. Dis die begin, die wegtuimel van die lewe af, hy sal nou die angsgil hoor, die vreesaanjaende skreeu wanneer jy in die diep, donker afgrond tuimel. Waarom is hy nie bang nie? Waarom dié … vrede, net die intense verlange na sy kinders, sy vrou. Anna. Nou weet hy hy wil haar hê, terughê, nou, te laat. Beweging. Hy kan sien. Nog nie dood nie. Vusi skiet weer, drie keer. Hy kyk na sy kollega. Asem kom nou makliker. Hoekom? Bennie se hand beweeg stadig na sy bors, tas na die gapende wond. Droog. Geen bloed nie. Hy kyk, voel. Gat in sy hempsak. Geen bloed nie. Hoekom die pyn? Voel die harde ding, vat dit vas. Die Leatherman. Koeël het die Leatherman getref, die verligting brand deur hom, verskietende bewussyn: Hy’t ’n gat van homself gemaak, gedink hy gaan dood. Hoor ’n stem. “Black cunt.” Hy kyk op. Die een wat hom geskiet het, staan daar, lang wapen teen Vusi se kop. Griessel reik na sy pistool op die vloer, vat dit vas, bring dit op, daar is nie tyd vir mik nie. Trek die sneller, sien die man se arm ruk, sien Vusi val, skiet weer, mis. Die man staan net, knaldemper-pistool het verdwyn. Bennie probeer opstaan, sy hele ribbekas ’n vlammevuur, steeds fokken seer, Leatherman of te nie, hy kruip eers, kom op sy voete, strompel nader. Vusi beweeg. Griessel rig sy dienswapen op die man. “Doodstil,” sê hy. Sien die man hou sy arm vas, sy elmboog is stukkend, baie bloed, ’n gemors van vesel en verbryselde been. Vusi kom regop. “Bennie …” Sy stem is ver, Griessel se ore doof van die skote.
“Ek het hom, Vusi.” “Ek het gedink jy is dood.” “Ek ook,” sê Griessel effens verleë. Hy ruk die man aan sy kraag. “Lê,” sê hy. Die man sak stadig op sy knieë. “Waar’s Rachel?” Geen antwoord nie. Bennie stamp sy loop teen die rug, hard. Die man val vooroor. “My arm,” sê hy. “Fok jou arm. Waar’s Rachel?” Die man kyk stadig om, na die toe deur agter hom. “Daar.” “Is sy alleen?” “Nee.” “Is Jason daar binne, Jason de Klerk?” Geen reaksie nie. Griessel stamp hom weer met die pistool. “Waar’s Jason?” Oomblik se stilte. “Dis ek.” Die woede oorrompel Griessel, die frustrasie, die verligting, hy gryp De Klerk se hare. “Jou fokken gemors,” sê hy en die begeerte is in hom, skiet hom vrek, skiet hom, in die keel, vir Erin Russel, vir alles, sy vinger span om die sneller. “Bennie!” ’n Geluid agter hulle, deur wat toegaan. Al twee speurders swaai om, mik. “Moenie skiet nie!” Nog ’n jong man staan daar, hande omhoog, vrees op sy gesig, bloed op sy bolip. “Op die vloer,” sê Vusi. “Asseblief,” sê hy en gaan lê dadelik.
“Waar’s Rachel?” vra Bennie. “Sy’s daar binne,” sê die ander een. Hulle kyk na die toe deur. “Vusi, as hy beweeg,” sê Griessel en tree na die deur toe. “Oppas,” sê die man. “Oerson is by haar.”
* * *
Sy is bewus van die vuurwapen wat op haar gerig is, van die man in sy manjifieke uniform wat oor haar toring. Hy sê haar naam. Ken hy haar? Sy lig haar oë, probeer fokus, hoekom staan die ander een ook nog hier, die jonge, een van dié wat haar bene vasgehou het? ’n Skoot klap, haar oë instinktief toe, sy verwag om dit te voel, uit die wapen wat op haar gerig is. Maak haar oë oop as die uniform ’n kragwoord sê, hy het van haar weggedraai, sy pistool op die deur gerig. Die ander man buk, kruip muur toe. Weer skiet iemand daar binne, ’n sagter knal. “What the fuck?” fluister die uniform. Nog ’n skoot, oorverdowend. Die uniform beweeg skielik tot langs die deur, weer donder dit daar binne, drie keer. Dan eers tref dit haar: Die polisieman. Griessel. Hy’t haar gekry. Sy wil regop sit, sy beweeg haar bene, die pyn in haar voet oorweldigend, maar dit maak nie saak nie, trek haar hakke terug, kry vastrapplek. Nog ’n skoot, nog een. Hy skiet hulle, Bennie Griessel, hy moet hulle almal vrekmaak. Sy druk haarself terug teen die koue paal, as sy net kan opstaan. Die uniform en die jong man staan, versteen. Nog twee skote. Stilte. “I’m going out,” sê die jong man en maak die deur oop, dadelik toe.
“Shit,” sê die uniform. Stemme daar binne, onverstaanbare woorde. Dan net die uniformman se asem, vlak en vinnig. “He’s going to kill you,” sê sy vir hom, haat in haar stem. Hy beweeg skielik, kom na haar toe, ’n stewel links en regs van haar knieë, druk die wapen teen haar wang. “Shut the fuck up,” sis hy, die pistool teen haar wang. “You’re going with me.” Dan kyk hy om, deur toe, oë wild. Sy skop hom. Sy bring haar knie op, haar seer regtervoet se knie, en sy stamp dit tussen sy bene in met alles wat sy in haar het en sy skree: “Now!” Haar stem is ’n desperate bevel. Die uniform skree iets, val na haar toe. Dawerende lawaai, die deur oopgeskop, dan ’n enkele skoot en die man val weg van haar en sy sien hom in die deur staan, ’n figuur met ’n pistool in sy hand, ’n gat in sy hemp, hare wat ’n sny nodig het en eienaardige, Slawiese oë. “Bennie Griessel,” sê sy, die uitspraak perfek. Hy laat die vuurwapen sak, hy beweeg na haar toe, diepe sorg in sy oë. Hy gryp haar kledingstukke van die vloer af, bedek haar haastig, sit sy arms om haar, druk haar teen hom vas. “Yes,” sê hy. “I have found you.”
45
Net ná vier kom die verpleegster by die hospitaalkamer uit en sê vir Fransman Dekker: “Vyftien minute.” Sy hou die deur oop dat hy kan ingaan. Alexa Barnard sit regop teen die kussings. Hy sien die verband aan haar voorarm, dan die gesigsuitdrukking van stadige teleurstelling. “Ek het die ander speurder verwag,” sê sy langsaam, haar woorde nie goed gevorm nie. Die medikasie is nog nie heeltemal uitgewerk nie. “Middag, mevrou,” sê hy, neutraal, want hy kan haar lomerigheid gebruik, hy moet konflik vermy, haar vertroue wen. Hy trek ’n blou stoel nader, tot amper teen die bed. Hy gaan sit, sy elmboë op die dun, wit deken. Sy staar na hom met ’n vae belangstelling. Sy lyk beter as vanoggend – haar hare geborsel en agter in haar nek saamgebind, sodat haar oop gesig sterker voorkom, die vergange skoonheid soos ’n fossiel in ’n verweerde rotswand. “Kaptein Griessel werk nie meer aan die saak nie,” sê hy. Sy knik stadig. “Ek verstaan nou beter,” sê hy, sag en simpatiek. Sy lig ’n wenkbrou. “Hy was … nie ’n maklike man nie.” Sy soek eers oor sy gesig, tot sy oortuig is van sy opregtheid. Dan kyk sy verby hom. Hy sien die vog wat stelselmatig in haar oë versamel, die onderlip se onwillekeurige beweging. Met haar gesonde regterarm, in stadige aksie, vee sy met die agterkant van haar hand oor haar wang. Beter as wat hy gehoop het. “Jy was baie lief vir hom.” Sy kyk steeds iewers agter Dekker verby, knik klein, vee nog ’n slag.
“Hy het jou baie seergemaak. Soveel jare lank. Aanmekaar, oor en oor.” “Ja.” Byna onhoorbaar. Hy wil háár laat praat. Hy wag. Sy sê niks. Die geluid van ’n helikopter kom deur die toegetrekte gordyne voor die venster, die wapwap al hoe harder. Hy wag tot dit bedaar. “Jy het jouself kwalik geneem. Jy’t gedink dis jou skuld.” Haar blik skuif na hom toe. Steeds stil. “Maar dit was nie. Daar is mans wat só is,” sê hy. “Dit is ’n siekte. ’n Verslawing.” Sy knik, instemmend, asof sy nog wil hoor. “Dis ’n dwelm vir die siel. Ek dink hulle het ’n leegheid hier binne, ’n ding wat nooit wil vol word nie, miskien help dit vir ’n rukkie, vir ’n dag of twee, dan begin dit weer van voor af. Ek dink daar’s ’n rede, ek dink hulle hou nie van hulleself nie, dis ’n manier om …” Sy wit Afrikaans laat hom in die steek. “Om aanvaarding te kry,” sê sy. Hy wag, gee haar kans. Maar sy kyk stip na hom, afwagtend, byna pleitend. “Ja. Aanvaarding. Miskien meer as dit. Daar’s iets stukkend hier binne, hulle wil dit heel maak. ’n Seer wat ’n lang pad kom, wat nooit heeltemal weggaan nie, dit kom elke keer terug, erger, maar die medisyne help al hoe minder, dit is ’n …” Sy handgebaar soek weer ’n woord, nou moedswillig. “ ’n Kringloop.” “Ja …” Sy vul nie die stilte wat hy skep nie. Eers huiwer hy, sê dan: “Hy was lief vir jou, op sy manier, ek dink hy was baie lief vir jou, ek dink die probleem is dat hy dit nie wou doen nie, maar elke keer as hy het, dan het hy nog minder van homself gehou, want hy’t geweet hy maak jou seer, hy’t geweet hy doen skade. Dan word dit die rede hoekom hy dit weer doen, dis soos ’n dier wat homself eet. Wat nie kan ophou nie. As ’n vrou vir hom wys sy soek hom, dan sê dit hy’s nie so sleg nie, dan dink hy nie meer nie, hy voel net, dis soos ’n koors wat oor hom kom, jy kan dit nie keer nie. Jy wil, maar jy kan nie, al is jy hoe lief vir jou vrou …” Hy hou skielik op, bewus van die grondverskuiwing, sit stadig terug in die stoel.
Hy kyk vir haar, wonder of sy gesnap het. Sien sy’s iewers. Hoor haar sê: “Ek het vir hom gevra om hulp te kry.” Hy hoop. Sy kyk na die tafeltjie langs haar bed. Bo die laai is ’n spleet waaruit ’n sneesdoekie hang. Sy trek dit uit, vee haar oë een vir een, frommel die dun papier in haar regterhand. “Ek dink daar was ’n tyd toe ek probeer verstaan het, toe ek gedink het ek sien ’n seuntjie in hom, ’n verstote, eensame seuntjie. Ek weet nie, hy het nooit gepraat nie, ek kon nooit uitwerk waar dit vandaan kom nie. Maar waar kom enigiets vandaan? Waar kom mý drink vandaan? Mý vrese, my onsekerheid. My minderwaardigheid? Ek het al gaan soek in my kinderdae, want dit is die maklike uitweg. Jou pa en jou ma se skuld. Hulle het foute gemaak, hulle was nie perfek nie, maar daar’s nie genoeg … verskoning nie. Die probleem is, dit lê in my. Dit is deel van my atome, dit is hoe hulle vibreer, dit is hul frekwensie, hul toonhoogte, die sleutel waarin hulle sing …” Hy vermoed waarheen sy op pad is. “Niemand kan help nie …” moedig hy aan. “Net jyself.” “Hy kon nie verander nie.” Sy skud haar kop. Nee, Adam Barnard kon nie verander nie. Hy wil vir haar sê: “Toe doen jý iets daaraan,” maar hy gee haar kans dat sy self sê. Sy sak stadig teen die kussings af, asof sy baie moeg is. “Ek weet nie …” ’n Diepe sug. “Wat?” vra hy, ’n fluisterende uitnodiging. “Het ons die reg? Om mense te wil verander? Sodat hulle ons pas? Sodat hulle ons teen onsself moet beskerm? Verskuif ons nie die verantwoordelikheid nie? My swakheid teenoor syne. As ek sterk was … Of hy. Ons tragedie lê in die kombinasie, die een was die ander se katalisator. Ons was … ’n ongelukkige chemiese verbinding …” Sy vyftien minute loop uit. “En dan moet iets ingee,” sê hy. “Iemand moet iets doen.”
“Nee. Dit was te laat om iets te doen. Ons gewoontes met mekaar was al te sterk, die patrone het ook deel van ons geword, ons kon nie meer op ’n ander manier leef nie. Verby ’n sekere punt kan jy niks doen nie.” “Niks?” Weer skud sy haar kop. “Daar is altyd iets wat ’n mens kan doen.” “Soos wat?” “As die seer genoeg is, en die vernedering.” Hy het meer as dit nodig. Hy vat ’n kans, gee vir haar iets om mee te werk: “As hy jou begin vloek en dreig. As hy jou aanrand …” Sy draai haar kop stadig na hom toe. Eers uitdrukkingloos, sodat hy nie weet of dit gaan werk nie. Dan begin die frons, aanvanklik asof sy nie verstaan nie, maar dan met toenemende begrip en ’n sekere beheerste verwyt. Eindelik kyk sy af na die snesie in haar hand. “Ek kan jou nie kwalik neem nie.” “Hoe bedoel jy?” maar hy weet hy het gefaal. “Jy doen jou werk.” Hy sit weer vooroor, desperaat, moet vanuit ’n ander hoek probeer. “Ons weet genoeg, mevrou,” sê hy, steeds met empatie. “Dit was iemand met binnekennis. Iemand wat geweet het waar hy sy pistool bêre. Iemand wat geweet het van jou … toestand. Iemand met genoeg motivering. Jy kwalifiseer. Jy weet dit.” Sy knik, nadenkend. “Wie het jou gehelp?” “Dit was Willie Mouton.” “Willie Mouton?” Hy kan nie die verbasing uit sy stem hou nie, onseker wat sy bedoel, want dit is asof ’n lig vir haar aangegaan het. “Dis hoekom ek vir die ander speurder … Griessel, gevra het om te kom.”
“O?” “Ek moes ook soos jy gedink het. Oor die pistool. Want net vier van ons het geweet waar dit is, en net Adam het die sleutel gehad.” “Watter sleutel?” “Die wapenkluisie bo in sy kas. Maar Willie het die ding kom insit. Vier, vyf jaar gelede. Hy’s goed daarmee, hy was nog altyd tegnies. In die ou dae het hy die verhoogwerk gedoen vir die orkeste. Adam kon niks met sy hande doen nie, maar hy wou nie buitemense kry nie, hy wou nie gehad het iemand moet weet van die pistool nie, hy was bang dit word gesteel. Vanoggend … Willie was hier, hy en die prokureur, dit was ’n snaakse gesprek, ek het eers besef toe hulle uit is …” Sy bly skielik stil, nadenkend, die hand met die snesie halfpad tussen bed en gesig. Toe sy stilbly, kan hy dit nie verduur nie. “Wat het jy besef?” “Willie wou altyd meer gehad het. Groter aandeel, meer geld. Al was Adam so goed vir hom.” “Mevrou, wat sê jy vir my?” “Willie het hier by die bed kom staan en al wat hy wou weet, was of ek iets kan onthou. Ek het Willie meer as ’n jaar laas gesien. En toe is hy skielik hier vanoggend, asof hy regtig omgee. Hy het al die regte geluide gemaak, hy wou weet hoe dit gaan, hy’t gesê hy is so jammer oor Adam, maar toe wil hy weet of ek iets kan onthou. Toe sê ek ek weet nie, ek was deurmekaar, ek kon nie verstaan … Toe vra hy weer: ‘Kan jy enigiets onthou – enigiets?’ Ek … Eers toe hulle uit is, ’n ruk later … Ek het gelê, en die medikasie … Maar toe hoor ek hom weer. Hoekom wou hy so graag weet? En hoekom was sy prokureur by? Dis wat ek vir Griessel wou sê, dat … dit snaaks was.” “Mevrou, jy het gesê hy het jou gehelp.” Sy kyk na hom, verbaas. “Nee, ek het nie dit gesê nie.” “Ek het jou gevra wie’t jou gehelp. Toe sê jy Willie Mouton.” Die deur agter Dekker gaan oop.
“Nee, nee,” sê Alexandra Barnard, heeltemal verward en Dekker wonder oor die pille wat sy in het. “Inspekteur,” sê die verpleegster. “Nog vyf minute,” sê hy. “Ek is jammer, dit is nie moontlik nie.” “Jy verstaan my verkeerd,” sê Alexa Barnard. “Asseblief,” sê Dekker vir die verpleegster. “Inspekteur, as dokter sê vyftien minute, dan is dit al wat ek vir jou kan gee.” “Fok vir dokter,” sê hy onwillekeurig. “Uit! Of ek bel sekuriteit.” Hy oorweeg die opsies, hy weet hy is só naby, sy is deurmekaar, hy gaan nie weer die kans kry nie, maar die verpleegster is nou ’n getuie van dié verklaring. Hy staan op. “Ons praat weer,” sê hy en loop uit, met die gang af, hysbak toe. Druk die knoppie, kwaad, druk dit weer en weer. So naby. Die deur skuif fluisterend oop, die groot hysbak leeg. Hy loop in, sien die Gliggie brand, vou sy arms. Nou wil sy vir Willie Mouton die skuld gee. Hy gaan nie vir daardie een val nie. Die hysbak begin sak. Hy sal weer met die huishulp Sylvia Buys moet gaan praat. Hy het haar adres, in sy notaboek. Athlone iewers. Hy kyk na sy horlosie. Amper twintig oor vier. In dié verkeer Athlone toe? Miskien is sy nog by die huis hier in Tamboerskloof. Willie Mouton? Hy sien weer die chaos van vanoggend in die straat, die militante Willie Mouton, ruiter in swart, kaalkop oorbeldraer op sy fokken foon. Met die prokureur. Mouton, wat so graag wil hê hy moet vir Jos en Melinda arresteer.
Die hysbak se deur skuif oop. Mense wag om in te kom. Hy loop stadig uit, ingedagte. Gaan staan in die voorportaal.
Die prokureur wat die hele dag by was, die spook van ’n man, so sedig. Mouton en Groenewald hier, by Alexa. “Wat kan jy onthou?” Vir wat? Lieg die dronk vrou? Adam het my gisteraand gebel, hier iewers ná nege, toe vertel hy my van Iván Nell se stories. Sy selfoon lui. Hy sien dis Griessel, wat gedink het sy’s onskuldig. “Bennie?” “Fransman, is jy nog by AfriSound?” “Nee, ek’s by City Park.” “Waar?” “By die hospitaal, in die stad.” “Nee, ek bedoel waar in die hospitaal?” “By die ingang. Hoekom?” “Staan vas, ek is oor ’n minuut by jou. Jy gaan dit nie glo nie.”
46
Bennie Griessel knip Rachel Anderson se hande los met die windskewe knypers van die Leatherman wat sy lewe gered het. Dan gaan haal hy vier slaapsakke, vra vir Vusi om rugsteun en medies te ontbied, kom maak die meisie se bewende lyf met twee slaapsakke toe, sprei die ander twee op die vloer en laat haar lê. “Don’t leave me,” sê sy. “I won’t,” maar hy hoor Oerson kreun en gaan soek eers die Metro-offisier se pistool voor hy by haar gaan sit, sy selfoon uithaal en vir John Afrika bel. “Bennie, waar die fok is jy? Ek bel nou al …” “Kommissaris, ons het vir Rachel Anderson gekry, ek sit nou by haar, ons is in Observatory, ek wil net een ding vra: Stuur vir ons die chopper, sy het mediese hulp nodig, sy’s nie ernstig nie, maar ek gaan haar die fok weet nie Groote Schuur toe vat nie.” ’n Hartklop se stilte voor Afrika sê: “Halleluja! Die chopper is op pad, gee vir my die adres.”
* * *
“I’m sorry, Mr Burton, but I just don’t believe you,” sê Bill Anderson oor die selfoon. “There’s a warning right here on the US consulate’s website, stating that 14 Americans have been robbed at gunpoint after landing at the OR Tambo International Airport in the past 12 months. I’ve just read that a South African government minister has said police must kill criminal bastards, and not worry about regula-tions. I mean, it’s the Wild West out there. Here’s another one: ‘More police were killed in the years since the end of apartheid than in the
previous period in that country’s history’. ‘Armed robberies at peo-ple’s homes have increased by thirty percent.’ And you are telling me we won’t need protection?” “It sounds worse than it is, I can assure you,” probeer die Amerikaanse konsul moedig. “Mr Burton, we are flying out this afternoon. All I want you to do is to recommend someone to protect us.” Dan Burton se sug is hoorbaar. “Well, we usually recommend Body Armour, a personal security company. You can call a Ms Jeanette Louw …” “Can you spell that for me?” En dan lui die huisfoon langs Anderson op die lessenaar en hy sê: “Excuse me for one second,” tel die gehoorstuk op en sê: “Bill Anderson.” “Daddy,” hoor hy die stem van sy dogter. “Rachel! Oh, God, where are you?” “I’m with Captain Bennie Griessel, daddy …” En dan breek sy dogter se stem.
* * *
Griessel sit met sy rug teen die muur, al twee sy arms om haar. Sy leun swaar teen hom, haar kop op sy skouer, terwyl sy met haar pa praat. As sy klaar is en die foon vir hom teruggee, kyk sy op na hom en sê: “Thank you.” Hy weet nie hoe om te antwoord nie. Hy hoor die sirenes wat nader kom, wonder hoe lank nog voor die helikopter hier gaan wees. “Did you find the video?” vra sy. “What video?”
“The video of the murder. At Kariba.” “No,” sê hy. “That’s why they killed Erin.” “You don’t have to tell me now,” sê hy. “No, I have to.”
* * *
Sy en Erin het op die hele toer ’n tent gedeel. Erin het maklik by die vreemde tydsones aangepas, gou deurgeslaap, om met sonop behaaglik te strek, te gaap en te sê: “Another perfect day in Africa.” Rachel het aanvanklik saans gesukkel om aan die slaap te raak. Ná die eerste week het dit beter gegaan, maar elke nag, iewers tussen een en drie, het haar lyf se horlosie haar laat opstyg uit die slaap, vir agterna vaag onthoude oomblikke van bewussyn, waarin sy haarself georiënteer en verwonder het aan dié verstommende avontuur, hierdie sonderlinge voorreg, om na die geluide van ’n goddelike kontinent te lê en luister. Net om weer veerlig en sorgvry weg te sak in die knusheid van die slaap. By die Karibameer het die maanlig haar verras. Iewers ná twee in die nanag, amper wakker, het sy bewus geword van die gloed, haar oë oopgemaak. Gedink iemand het ’n kollig aangeskakel. Tot die besef oor haar gedaal het: volmaan. Betower deur die intensiteit daarvan, die omvang, gereed om weer weg te dryf na haar drome toe. In haar geestesoog die maan oor Kariba se waters gesien, die skoonheid daarvan. En besef sy sal dit moet vaslê vir haar video-dagboek. Dalk is dit die openingskoot van die DVD wat sy by die huis op Premiere Pro gaan maak. Of die agtergrond vir haar titelsekwens-animasie in After Effects, as sy genoeg tyd gaan hê om dié stuk programmatuur se geheime wéér te probeer ontrafel.
Sodat sy eindelik versigtig uit die slaapsak gekruip het om Erin nie te pla nie, die Sony-videokamera gevat het en in die soel somernag uitgegaan het. Die kamp was stil. Sy het tussen die tente deurgeloop, tot op die rand van die meer. Die uitsig was wat sy vermoed het: Nog ’n asemrowende Afrika-skouspel – die maan ’n juweel van geroeste silwer wat oor die tapyt van ’n biljoen sterre gly, alles verdubbel deur die meer se spieël. Sy het die kamera aangesit, die klein LCD-skerm uitgevou en op die paneel se keusegids “Sunset & Moon” gedruk. Maar die maan het te hoog gesit, sodat sy óf die refleksie, óf die ware jakob kon inkry, maar nie al twee nie. Sy het rondgekyk en die rotse gesien, aan die kant van die meer, honderd meter verder. ’n Akasiaboom het daaruit gegroei. Dit sou vir haar hoogte gee, ’n verwysingspunt, en perspektief. Bo-op die rotse het sy weer probeer. Met die takke van die boom geëksperimenteer, tot sy die geluide gehoor het, hier onder, skaars vyftien meter weg. Sy het omgedraai, gekyk. Twee figure in die donker. ’n Gedempte argument. Sy het stadig gaan sit, instinktief, en besef dit is Jason de Klerk en Steven Chitsinga by een van die sleepwaens. Sy het stilweg geglimlag en die kamera op hulle gerig, begin opneem. Haar bedoeling was onnutsig, want hulle was die twee voorste draakstekers, die hoofgidse wat sonder ophou al die Europese en Amerikaanse toeriste gespot het oor hul gemaksug, hul gekibbel, gekla, hul onvermoë om Afrika baas te raak. En nou het sy bewyse dat hulle ook nie perfek is nie. Sy het geglimlag, gedink hoe sy dit met ontbyt gaan onthul. Laat hulle ook een keer verleentheid smaak. Tot Steven een van die groot bagasielaaie onder aan die sleepwa oopgetrek het, gebuk het om iets uit te haal. Hy het hardhandig daaraan geruk – en die vorm van nog ’n mens was skielik tussen hulle, ’n kleiner figuur langs die lang lenigheid van die twee gidse. ’n Man se stem het ’n woord geroep. Steven het die kleiner figuur van agter beetgekry, ’n hand oor sy mond gedruk. Nou het Rachel Anderson opgekyk van die skermpie af, verstom, sy wou seker maak die beeld in die kamera bedrieg haar nie. Sy het gesien hoe iets in Jason se hand blink, helder en dodelik in die maanlig, hoe hy dit in die klein figuur se bors indryf, hoe die man skielik verslap in Steven se greep.
Jason het die voete opgetel, Steven het die hande geneem en hulle het die figuur gesleep-dra, weg, die donker in. Sy het nog lank daar gesit. Aanvanklik ontkennend, dit kan nie wees nie, ’n droom, heeltemal onwerklik. Sy het die videokamera se klank afgestel en die video teruggespeel. Die beeldmateriaal was nie goed nie, die kamera is nie bekend vir sy donkerwerk nie, maar daar was genoeg, sodat die besef soos ’n indringer in haar posgevat het: Sy het ’n moord gesien, gepleeg deur twee mense wat sy met haar lewe vertrou het.
* * *
Die volgende dae het in ’n waas verbygegaan. Sy het besef sy was getraumatiseer, nie geweet wat om te doen nie. Sy het onttrek. Erin het oor en oor gevra: “What’s wrong?” Later: “Did I do something?” En sy het net gesê: “I’m not feeling well.” Erin het vermoed dit is die eerste tekens van malaria, het haar uitgevra oor simptome, en sy het vaag en ontwykend geantwoord tot haar vriendin moed opgegee het. Sy wou die moord aanmeld, maar by wie? Daar was soveel gerugte oor die polisie in Zimbabwe, soveel stories van korrupsie en politiek dat sy getalm het. Ná ’n besoek aan die Victoria-waterval is hulle uit die land uit, Botswana toe, en skielik was daar geen moontlikhede meer nie. Net die ontsteltenis wat sy met haar saamdra, en die wete dat ’n moord in Zimbabwe, deur Zimbabwe-burgers, nie ’n ander land se polisie gaan traak nie. Nie op hierdie kontinent nie. In Kaapstad is hulle saam met ’n paar ander na die Van Hunks-nagklub, onbewus dat Jason ook later sou opdaag. Hulle het al twee gedrink, Erin met ’n groot verbetenheid. Sy het vir Rachel begin verwyt, in ’n eskalerende stortvloed van aanklagte – by die tafel, op die dansvloer. Eers net met woorde soos lemme, later met die trane van dronkverdriet. Oor vriendskap, vertroue en verraad.
Die alkohol het Rachel se beheer vermurwe. Dit het haar emosioneel gemaak, die drang om die groot las van die geheim te verlig het te groot geword, so ook die behoefte om die versriklike aantygings teen haar te ontken. Eindelik, koppe bymekaar by die tafel, het sy alles vertel. Erin het kalmeer. Sy’t gesê dit kan nie wees nie, ’n misverstand. Nie Jason en Steven nie. Onmoontlik. Rachel het gesê sy het in die oggendure dikwels weer na die video gekyk. Dit is nie ’n misverstand nie. Kom ons vra vir hulle, kom ons klaar die ding op, die redenasie van ’n redelik besope, altyd naïewe aartsoptimis wat nooit kwaad in enigiemand kon sien nie. Nee, nee, nee, het Rachel geantwoord, belowe my jy sal niks sê nie, nooit nie, kom ons gaan huis toe, my pa sal weet wat om te doen. Erin het belowe. Hulle het gedans. Erin was iewers, het teruggekom tafel toe, gesê Jason en Steven is hier, sy het hulle gevra, hulle sê jy het gedroom. Rachel het opgekyk, oor die see van gesigte, en Jason se oë op haar gesien. Hy het ’n selfoon teen sy oor gehad, en ’n uitdrukking van kille vasberadenheid. Sy het haar rugsak gegryp en vir Erin gesê kom, ons moet hier uit, nóú; Erin het teëgestribbel, sy wil nie gaan nie, wat is dit met jou? Rachel het haar aan haar boarms gegryp en gesê: “Nou kom jy saam met my. Nou!” Hulle was ’n paar honderd meter van die klub af, in Langstraat, toe Jason en Steven uitkom. Links en regs gekyk, hulle gesien, en begin hardloop het. Die ander drie het van iewers af bygekom. Barry, Eben en Gary. Sy het geweet hulle hardloop vir hulle lewe.
* * *
Steven Chitsinga en Barry Smith, in die Toyota-bakkie, draai uit Scott in Spekestraat in en sien die polisievoertuie voor die pakhuis van African Overland Adventures, ’n horde blou ligte wat draai, uniforms oral. Steven sê iets in Shona, Barry bly stil, trap hard rem, sodat die groot veldrybande skreeu. Hy pluk die rathefboom om trurat te kry, los die koppelaar,
trap die versneller, skiet agteruit, tref iets. In die spieëltjie sien hy net die voertuig se dak, eers as hy met paniek sy lyf omruk om te kyk, besef hy dit is nog ’n SAPS-patrollievoertuig. En ’n ambulans daaragter, wat byna die hele pad versper. Hy krap weer die ratte, skiet vorentoe, as hy in Stanley kan links draai, dadelik weer links in Grant … Maar Stanley is toe, polisievangwaens, Opels, staan die hele pad vol. Uniforms kom aangehardloop, wapens in die hand. “Fuck,” sê Steven langs hom. Barry sê niks nie. Hy bring net die bakkie tot stilstand en lig sy hande stadig van die stuurwiel tot bo sy kop.
* * *
“He’s coming with me,” sê Rachel Anderson as hulle haar op die draagbaar helikopter toe dra. Sy wys na Griessel, wat saamloop en haar hand vashou. “There’s no room,” sê die paramedikus. “Then I’m not going.” “Rachel, I’ll be there in a few minutes,” paai Griessel. Sy worstel om uit die draagbaar te kom. “I’m not going.” “Wait,” sê die paramedikus, “he can go with you.” Vir Griessel: “Waar’s jou kar?” Bennie wys na die bakkie. “Die sleutel is nog daarin.” Hulle laai haar in die helikopter, Griessel skuif met moeite langs haar in. “Wag net,” sê die paramedikus en hardloop weer in die gebou in. Hy kom uit
met die tone in ’n klein sakkie en gee die grusame vraggie vir Griessel. “Hulle kan dit aanwerk,” sê die man. “Miskien …”
* * *
In die helikopter probeer sy praat, maar die rotors lawaai te veel. Eers by die hospitaal, nadat hulle op die dak geland het, wanneer hulle haar by die teater wil instoot, dieselfde een waar hulle vir Mbali Kaleni en Eben Etlinger geopereer het, sê sy hulle moet wag en sy sê vir Griessel daar was nog iets, laasnag. Nadat hulle Erin se keel afgesny het. “Ons kan later praat,” het hy gepleit, want hy moet by Vusi uitkom, daar is nog baie werk. “No. You have to know. They killed another man.”
* * *
Sy het gesien hoe hulle Erin se keel afsny en toe hardloop sy, blindelings, in angs en skok, terug straat toe, die eerste moontlike straat weg van hulle gekies. Iewers, kort daarna, het sy ’n gebou links gesien, ’n deurgang na ’n binnetuin. Sy wou wegkom uit hul gesigsveld. Sy het daar ingehardloop. ’n Groot, middeljarige man in ’n pak klere, aantreklik, het by ’n visdam gestaan, vir twee ander gekyk wat wegstap, iets in woede uitgeroep voor hulle ’n glasdeur oopgemaak en daarin verdwyn het. Teen die muur was ’n logo met ’n voël daarop, dit kan sy onthou. “Please, help me,” het sy gesê, die verligting groot, hier was uitkoms. Die groot man het na haar gekyk, en die kwaad op sy gesig het skielik verander, na besorgdheid. “What’s wrong?” het hy gevra.
“They want to kill me,” het sy gesê en by hom gaan staan. “Who?” En toe hoor hulle die voeteval en kyk na die opening, waar Jason-hulle verskyn het. Nou het Jason ’n vuurwapen in sy hand gehad. “We just want her,” het hy vir die groot man gesê. Die man het sy arm beskermend om Rachel se skouers gesit en gesê: “Not before we call the police.” “She stole from us. We just want our stuff back, we don’t want trouble.” “Even more reason to call the police,” en hy het in sy sakke begin voel, seker op soek na ’n foon. Jason het die vuurwapen op die man gerig. “Then I’ll have to shoot you.” Die man het sy selfoon uitgehaal. Toe besef sy sy gaan vir nog ’n dood verantwoordelik wees en sy begin weer hardloop. Die groot man het hulle probeer keer. Sy het twee skote gehoor. Sy het teruggekyk. Die groot man in die swart pak klere het geval. Toe is sy weg, om die hoek. In die straat het ’n munisipale vragmotor weggetrek, ’n stinkende trok wat rommelsakke vervoer. Sy het daarteen opgespring, omgekyk, gesien hulle kom, die vragmotor het versnel, sodat Jason-hulle kleiner en kleiner geword het. Sy het gedink hulle sal moed opgee toe sy amper ’n halwe kilometer voorsprong gehad het. Maar toe is die verkeerslig heel bo in die straat rooi. Toe spring sy af.
* * *
“Two men went into the building just before he saw you?” vra hy haar toe hulle haar by die teater instoot.
“Yes,” sê sy. Griessel loop agterna. “What did they look like?” “I can only the one. He was … eccentric. Very thin, his head was shaven … Oh, and he had a silver earring,” en dan sê die dokter vir Griessel hy sal moet uitgaan. “He was dressed all in black,” roep sy voor die teaterdeur toegaan.
16:41– 17:46
47
Speurder-inspekteur Vusi Ndabeni verloor eindelik sy professionele humeur in ’n ondervragingskamer by die Caledonplein-polisiestasie. Hulle stop vir Steven Chitsinga in ’n sel. Hulle vra vir Mat Joubert om Jason de Klerk in ’n oop kantoor te ondervra, want Griessel sê hy kan nie, omdat hy “die fokker sal doodbliksem”. Vusi vat vir Barry Smith na die stasie se amptelike ondervragingskamer, Griessel neem vir Bobby Verster in ’n ander kantoor onder hande. Verster is die een wat laaste uit Rachel se martelkamer gekom het, wat vir Jeremy Oerson alleen agtergelaat het. Hulle vermoed hy is die swakste skakel. Joubert kry niks reg met Jason de Klerk nie, ondanks sy vernuf, sy intimiderende grootte, en die feit dat De Klerk groot pyn verduur met sy vergruisde elmboog. Hy ignoreer elke vraag, sit net en staar na die muur. Op elke vraag van Vusi sê Barry Smith binnensmonds: “Fuck off.” Vusi voel die ongemak in hom groei, maar hy onderdruk dit, vra die volgende vraag. “Fuck off.” In die ander kantoor sê Bobby Verster vir Bennie Griessel hy was nie saam met die toer nie, hy was toevallig laasnag by Barry en Eben in die Purple Turtle toe Jason bel. Barry het opgespring, vir hulle gesê hulle moet kom, en buite het hulle vir Jason en Steven gesien wat twee meisies in Langstraat afjaag. Toe jaag hy saam. Griessel se lyf is seer, maar hy is nog vol van die euforie van die deurbraak, die verligting om Rachel te kry. Hy staan op uit sy stoel, kom tot by die tafel. Hy kyk na Bobby. Bobby kyk weg. “Het jy die een gehoor van die hondjie?” vra Griessel. “Watter een?” Met groot agterdog.
Bennie plaas sy sitvlak op die tafel, vou sy arms versigtig voor sy pynlike borskas, sy stem ondeund, speels, vriendelik. “Die een van die jong hondjie wat gehoor het hoe die groot honde praat van seks, hoe lekker dit is om te streep. ‘Wat is streep?’ vra die klein hondjie. ‘Dis die lekkerste ding wat daar is, kom ons gaan wys jou.’ Die honde hardloop in die straat af, skraap ’n teefhond op hitte. Die teef hardloop weg vir die trop. Hulle jaag haar, om die blok. Hier teen die vierde keer om die blok, toe sê die klein hondjie: ‘Kêrels, ek streep nog net hierdie ronde saam, dan gaan ek huis toe.’ ” Bobby Verster lag nie. Bennie Griessel sê: “Jy het nie moeg geword van al die gejaag nie, Bobby?” Verster sê niks. “Nie eens toe hulle ’n onskuldige jong meisie se keel afsny nie?” Bobby sê hy was geskok toe Jason dit gedoen het. Hy het geprotesteer. Toe sê Steven Chitsinga vir hom: “Jy’s volgende as jy nie jou bek hou en help nie.” Toe word hy bang. Maar hy weet nie wat de hel met Jason-hulle aangaan nie. “So jy was onder dwang?” “Ja.” “Jy’s eintlik onskuldig?” “Ja!” “Sal jy só ’n verklaring aflê? Net sodat ons met jou kan klaarmaak?” vra Griessel vir hom. “Ek sal,” antwoord hy. Gretig. Bennie skuif ’n pen en papier nader. Bobby skryf. “Onderteken dit,” sê Bennie. As Bobby klaar is, lees Griessel die verklaring hardop vir hom voor. Hy vra: “Dit is alles die waarheid?” “Dit is.”
“Dan is jy ’n medepligtige tot moord. Jy gaan tronk toe, en jy gaan baie lank sit.” Toe raak Bobby Verster se oë groot. Hy protesteer, net soos hy beweer hy die vorige nag gedoen het. “Jy het dan gesê ek is onskuldig.” “Nee, ek het gevra of jy is. Kom, hier’s ’n vangwa hier buite wat jou Pollsmoor toe sal vat.” “Pollsmoor?” “Net tot die borgverhoor. So oor ’n week of twee. Drie.” “Wag …” Griessel wag. Bobby Verster dink lank. En toe sê hy: “Julle soek vir Blake.” “Wie is Blake?” “Moet ek Pollsmoor toe gaan?” “Alles is onderhandelbaar.” “Blake is die eienaar. Van Overland. Dis vir hom wat ons die mense inbring.” “Watter mense inbring?” “Die swartes.” “Watter swartes?” “Die swartes wat hulle in die laaie sit, onder die sleepwa. Van Zimbabwe af. Maar dis nie altyd Zimbabwe-mense nie.” “Onwettige immigrante?” “So iets. Ek weet nie. Dit is nou maar ’n maand dat ek help met die aflaai, maar hulle wil my nog nie alles vertel nie.”
“Wat is Blake se naam?” “Duncan. Maar ons noem hom Mr B. Hy bly hier in die stad, dis al wat ek weet.” “Baie dankie.” “Moet ek nog steeds Pollsmoor toe gaan?” “Jip.”
* * *
Fransman Dekker bring nog twee uniforms saam met hom AfriSound toe. Hulle loop tussen die media deur in die klein tuintjie. Hy ignoreer die vrae. Een van die twee konstabels wat die deur bewaak, maak vir hulle oop. Dekker sê: “Kom, julle gaan almal saam.” Hulle klim die trappe in gelid, die speurder voor, die vier uniforms agter hom. Hulle loop deur die ontvangsarea. Dekker glimlag vir Natasha, vir die eerste keer vandag met groot selfvertroue. In die gang af, tot by Mouton se kantoor. Hy klop nie, hy loop net in. Die prokureur is nie daar nie. “Wat nou?” vra Mouton. “Die lekkerste ding van my job, daai ding wat ek die heel meeste van hou, is om ’n whitey-doos te arresteer,” sê Dekker. Mouton se adamsappel spring wild op en af, maar hy kry nie ’n woord uit nie. Dekker vra twee kostabels om ’n oog oor Mouton te hou, loop uit, wink die ander twee uniforms nader, maak Wouter Steenkamp se deur oop. Die rekenmeester sit agter sy rekenaar. “Ons weet alles van gisteraand,” sê hy. Steenkamp knip nie ’n oog nie. “Hy bel nie, hy beweeg nie, hy sit net hier,” sê Dekker vir die twee uniforms. “Ek is nou terug.”
* * *
Griessel gaan roep vir Vusi en Mat Joubert. Hulle hou ’n blitsvergadering in die stasiebevelvoerder se kantoor. Hy vertel hulle wat Bobby Verster gesê het. As die speurders klaar gekoukus het, gaan Vusi terug en sê vir Barry Smith: “We’re bringing in Mr B. We know everything.” Hy sien hoe Barry Smith bleek word. “Fuck off,” met groter venyn. “Murder,” sê Vusi vir hom. “Life sentence.” “Fuck off, you black bastard.” Die onregte van die dag kom lê onmoontlik swaar op Vusumuzi Ndabeni, maar hy skud dit nog een laaste keer af. Dan sê Barry Smith: “Fucking motherfucker,” en Vusi se humeur breek oor hom soos die magtige branders van die Transkeise kus. Hy is by die jong wit man in een blitsige beweging, hy slaan hom met die vuis teen die slaap, al die krag van sy skraal, netjiese lyf daaragter. Barry se kop ruk terug, hy slaan agteroor, stoel en al, sy kop klap dof teen die vloer. Vusi is op hom, by hom, ruk hom aan sy kraag orent, druk sy gesig teen Barry s’n en sê: “My mother is a decent woman, do you hear me?” Dan los hy hom, staan terug, sy asemhaling hard. Vusi skuif sy baadjie reg, raak bewus van die pyn in sy kneukels, sien hoe Barry se oë sukkel om te fokus. Barry, onvas op sy voete, kyk terug, tel stadig die stoel op, skuif dit reg, sak daarin neer. Hy plaas sy hande in stadige aksie op die tafel, laat sy kop daarin sak, sy palms verberg sy gelaat. Dit is ’n hele rukkie voor Vusi besef die jong man huil. Hy trek ’n stoel uit, gaan sit. Hy sê niks, vertrou nie sy stem nie, die woede het nie bedaar nie, die skuldgevoel nog net ’n klein, donker kol in sy buik. Langer as ’n minuut sit hulle só. “My mother is going to kill me,” sê Barry agter sy hande.
“I can help you,” sê Vusi. Barry snik, sodat sy hele lyf sidder. Dan begin hy praat.
* * *
Dekker gaan sit oorkant Mouton. Hy sê: “Ek weet jy het nie vir Adam Barnard geskiet nie. Ek weet van die meisie en die vier ouens wat haar gejaag het.” “Vyf,” sê Mouton, en dan lyk dit of hy sy tong wil afbyt. “Vyf,” sê Dekker tevrede. “Ek wil my prokureur bel,” sê Mouton. “Later. Kom ek sê vir jou wat gebeur het. Barnard het vir jou gebel, gisteraand, net ná nege. Jy het geweet ons sal ’n rekord van die oproep kan kry, dit is hoekom jy dit so maklik gevolunteer het …” Mouton se adamsappel beweeg, hy wil iets sê, maar Dekker maak hom met ’n hand stil. “Adam het jou nie gebel om te sê hoe simpel Iván Nell se aantygings was nie. Hy was bekommerd. Nell het vir my gesê Barnard was ontsteld. Hy was nie homself nie. Hy’t snuf in die neus gehad, Willie. Hy’t iets vermoed, hy’t geweet iemand is besig om met die geldsake te lol. Ek weet nog nie hoekom nie, maar ek sal uitvind. In elk geval, toe sê Adam hy wil julle sien. Het hy gesê julle moet kantoor toe kom, jy en Woutertjie? Of was dit jou voorstel – hou die moeilikheid van die huis af weg? Toe kom julle in hiernatoe, seker lekker geworried, want julle is skuldig. Hoe laat, Willie? Het hy gesê julle moet elfuur kom, sodat hy eers na die syfers kan kyk? Ek weet hy’t gisteraand op sy rekenaar gewerk. Hy was só ontsteld oor wat hy gesien het dat hy nooit die rekenaar afgesit het nie. Vanoggend was dit nog aan. Miskien het hy al die rekords op ’n CD gelaai sodat julle nie kan kom en neuk met die goed nie. Julle het hier gesit, miskien in sy kantoor, en toe konfronteer hy julle. Seker alles ontken, Willie? Hoe doen ek sover? Toemaar, laat ek klaarmaak. Gestry en baklei van elfuur tot halftwee in die nag. Toe sê Barnard seker later: ‘Los, dit, ons praat môre verder.’ Hy moes moeg gewees het. Gedink aan sy dronk vrou by die huis. En julle is al
agter hom aan, tot buite in die tuin. Nog daar verder gestry. Toe loop julle in net toe die vroumens aankom. Lucky geraak, op meer as een manier. Want as julle daar bly staan het, was julle dalk ook geblaas. Maar toe skiet hulle vir Adam. Problem number one solved. En daar staan julle twee deur die venster vir die lyk en kyk, en julle dink: Wat nou? Julle groot probleem was Iván Nell. Want, maak nie saak wat julle doen nie, as Iván vir ons kom sê daar’s ’n slang in die gras, dan het julle moeilikheid. Toe dink jy hoe kan jy dit anders laat lyk, asof julle nooit hier was nie. Vir iemand anders die skuld gee. Toe onthou jy van Jos en die Sonde. En van Alexa en die pistool. Fokken briljant, Willie, dit moet ek sê. Toe dra julle vir Barnard na jou kar toe. As hy in jou of Wouter se kar was, gaan daar bloed en hare en vesels en DNA wees, en ons sal dit kry. Nou moet ek vir jou sê, die skoen en die selfoon kon ek nie uitwerk nie. Tot so ’n halfuur gelede, toe sit ek die hele ding bymekaar. Die skoen het afgekom toe julle vir Adam optel om hom kar toe te dra. Jy het hom seker so aan die voete opgetel. En die selfoon was in sy hand toe hy geskiet is. Toe vat jy die selfoon en jy onthou Adam het jou gebel. Toe delete jy sy call history. En jy sit die selfoon in die skoen, en die skoen in jou sak, of bo-op Barnard, dit sal ons seker nooit weet nie. En toe julle by die kar kom en die boot oopmaak, toe sit jy die skoen bo-op die kar se dak. Tydelik. En toe raak julle haastig en vergeet van die skoen. En ry, Woutertjie voor met Adam se kar, jy agterna. So iets. En daar bo, op die hoek, so met die draaislag, toe moer die skoen af, en julle kom dit nie agter nie. Hoe doen ek, Willie? Ek sê nou vir jou, ek het myself blou gedink oor daardie skoen, tot ek weer daar bo op die hoek gaan staan het. Toe kom dit, skielik. Fokken briljant, ek sê nou vir jou.” Mouton staar net na Dekker. “Jy en Wouter het vir hom by die trappe opgedra en julle het hom daar by Alexa gaan neersit. En toe kry jy die pistool uit die kluis wat jy ingesit het. Iewers het jy drie skote gaan afvuur. Ek raai jy kon dit nie in die huis doen nie, al het jy ’n kussing of iets gebruik om die geraas minder te maak. Want julle was te bang Alexa word wakker, dronk of nie dronk nie. Julle het gery, Willie. Teen die berg uit? Iewers, waar dit nie sal saak maak nie. Toe gaan jy terug en sit die pistool daar neer. Slim. Maar toe nie slim genoeg nie.” “Ek wil my prokureur bel.” “Bel hom, Willie. Sê hy moet Groenpunt-stasie toe kom. Want hier is ’n lasbrief vir jou inhegtenisneming, en hier is ’n lasbrief om hierdie plek te deursoek. En
ek bring slim mense in, Willie. Rekenmeesters, rekenaar-boffins, ouens wat spesialiseer in witboordjie-misdaad. Julle het Adam Barnard en Iván Nell en hoeveel ander mense se geld gesteel, en ek gaan uitvind hoe julle dit gedoen het en dan gaan ek vir jou en vir Woutertjie bêre, Willie, en daardie fokken Frankenstein-prokureur van jou gaan niks kan doen nie. Of is hy ook deel van julle scheme?”
* * *
Bennie Griessel stoot die man by Caledonplein se voordeur in. Sy volbaard en hare is kort geknip, netjies, effekleurige en voortydig grys. Hy is fiks en slank in die denimhemp en kakie chino-broek, blou seiljagskoene. Dit is net die boeie om sy polse wat daarop dui dat hy moeilikheid het, want die gesig is uitdrukkingloos. Vusi wag in die voorportaal. “Kan ek jou voorstel aan Duncan Blake?” vra Griessel, ingenome. Vusi kyk die man op en af, asof hy hom meet aan sy nuutgevonde kennis. Dan wend hy hom bekommerd na Griessel. “Bennie, ons sal die kommissaris moet laat kom.” “O?” “Dié ding is gróót. En lelik. En ons sal ’n span Kampsbaai toe moet stuur, na ’n hospitaal toe. ’n Groot span.” Eers dan beweeg daar ’n skaduwee van emosie oor Duncan Blake se gesig.
17:47 – 18:36
48
Hulle sit in die stasiebevelvoerder se kantoor – Griessel, Vusi en John Afrika. “Ek wil net sê ek is trots op julle, die provinsiale kommissaris is trots op julle. Die minister sê ek moet haar hartlike gelukwensing oordra,” sê Afrika. “Dis Vusi wat die ding gebreek het,” sê Griessel. “Nee, kommissaris, dit was Bennie … kaptein Griessel.” “Die SAPS is op julle al twee trots.” “Kommissaris, dié ding is groot,” sê Vusi. “Hoe groot?” “Kommissaris, hulle het mense ingesmokkel, agt op ’n slag, uit Zimbabwe uit. Somaliërs, Soedannese, Zimbabwiërs …” “Al die plekke waar daar moeilikheid is.” “Dis reg, kommissaris, mense wat niks het nie, wat ’n nuwe begin soek, wat enigiets sal doen …” “Seker groot sakke vol geld gevra om hulle heuningpotte toe te bring.” “Nee, kommissaris, nie so baie nie.” “O?” “Ons het ook eers gedink dis net onwettige immigrasie, kommissaris. Toe vertel Barry Smith, een van die gidse, my van die res. Die hospitaal, die hele ding …” “Watter hospitaal?” vra John Afrika.
“Miskien moet ons heel voor begin. Bennie het met Blake gepraat, kommissaris.” Griessel knik, krap agter sy oor, blaai in sy notaboek, kry die regte bladsy. “Duncan Blake, kommissaris. Hy’s ’n burger van Zimbabwe, vyf-en-vyftig jaar oud. Hy was getroud, maar sy vrou is in 2001 aan kanker oorlede. In die sewentigs was hy deel van die Rhodesian Special Air Services, hy het dertig jaar lank op ’n familieplaas buite Hurungwe in Mashonaland-Wes geboer. Sy suster, Mary-Anne Blake, was ’n chirurg by die hospitaal in Harare. In Mei 2000 het die leier van die oudstrydersbeweging, Chenjerai Hitler Hunzvi, Blake se plaas beset. Blykbaar het Blake se plaasvoorman, Justice Chitsinga, die besetters probeer keer, en hy is doodgeskiet. Blake het twee jaar lank probeer om sy plaas deur die howe terug te kry, maar in 2002 het hy moed opgegee, en hy en sy suster het Kaap toe gekom. Hy het vir Steven Chitsinga, sy voorman se seun, saamgebring, en African Overland Adventures begin. Die meeste van sy personeel was jong mans en meisies van Zimbabwe, kinders van onteiende boere of hul werknemers. De Klerk, Steven Chitsinga, Eben Etlinger, Barry Smith …” “En die Metro-ou wat julle doodgeskiet het? Oerson?” vra die kommissaris. “Dis weer ’n ander storie, kommissaris,” sê Vusi. “Smith sê Oerson was by Provincial Traffic. Twee jaar gelede, toe werk hy by die weegbrug op die N7, daar by Vissershok, en hy trek een van hulle Adventure-lorries af en die ding is oorgewig. Toe begin hy skimp: Hulle hoef nie ’n boete te betaal nie, en De Klerk is dadelik reg om vir hom iets onder die tafel te gee. Toe vat Oerson dit, en hy laat hulle ry. Maar hy’t begin wonder hoekom die Adventure-mense so maklik en so baie betaal het. En hy dink: Hulle kom van die noorde af, deur Afrika, en hy dink hulle smokkel met iets. Toe wag hy dat hulle weer verbykom, ’n maand later. Toe trek hy hulle weer af. En hy sê hy wil ’n bietjie kyk in die lorrie en die treiler, in al die cavities. Toe sê De Klerk dis nie nodig nie, hoeveel wil hy hê. Toe sê Oerson nee, hy wil kyk, want hy dink hulle het iets wat hulle wegsteek. En De Klerk bied al hoe meer aan, en Oerson sê maak oop. De Klerk sê hy kan nie, en Oerson sê: ‘Dan cut julle my in, want ek ruik groot geld.’ Toe bel De Klerk vir Blake. En hulle sit vir Oerson op die payroll. Maar toe sê hulle, on one condition: Oerson moet by Metro gaan apply, want hulle het ’n ou nodig wat ’n oog kan hou oor die Somali’s en die Zimmers wat klaar organe geskenk het en almal in die stad …” “Organe geskenk het?”
“Ek kom nou daarby, kommissaris. Baie van die mense wat klaar geskenk het, het stalletjies in die stad oopgemaak met die geld wat hulle gekry het. Daar was ’n paar wat gedreig het om te praat as hulle nie nog geld kry nie. Dit was Oerson se job om hulle stil te maak.” “Soos in permanent?” “Sometimes, kommissaris. Maar nooit self nie, hy’t ander kontakte daarvoor gehad. Nog Metro-mense ook …” “Jissis,” sê John Afrika en vou sy hande voor hom. Dan kyk hy na Vusi. “En die organe?” “Blake het die avontuurding begin, en toe koop hy en sy suster die ou Atlantic Hotel in Kampsbaai in 2003, en maak die plek reg en begin met ’n privaat hospitaal. Sy’s nou die ‘direkteur’ …” “ ’n Hospitaal?” Vusi kry skielik ’n idee. “Ekskuus, kommissaris,” sê hy en trek die sleutelbord op die lessenaar nader, dan die muis. Hy draai die rekenaarskerm sodat hy beter kan sien, klik op die webleser-ikoon, en tik dan ’n webadres in. Google South Africa, staan op die skerm. Vusi tik die woord “AtlantiCare” in die kassie, en klik dan op Google Search. ’n Lang lys moontlikhede verskyn onmiddellik. Hy kies die boonste skakel en ’n webblad laai stadig op die skerm. Dit wys ’n wit gebou teen die hange van die Twaalf Apostels, met ’n mashoof: ATLANTICARE: Exclusive International Medical Centre. Nog ’n foto verskyn – die gebou van agter, met die Atlantiese Oseaan wat tot op die horison uitstrek. “Dis die plek, kommissaris.” John Afrika fluit. “Groot geld.” “Steven Chitsinga sê hulle was groot boere. Klomp plase gehuur, beeste, tabak, mielies … Daar was seker beleggings … Maar die ding is, kommissaris …” Vusi skuif weer die muis, klik op ’n skakel wat sê Transplants. “ … hulle het oorplantings gedoen …”
Nog ’n webblad maak oop, met die witgebou-mashoof heel bo. Dan die opskrif Transplants you can afford. Vusi lees hardop vir hulle voor. “The average cost of a heart transplant in the United States of America is $300 000. A lung transplant will cost you $275 000, and intestine almost half a million dollars. Impossible to afford without health insurance, but even if you are covered, there is no guarantee that you will receive a donated organ in time. For instance, the waiting list for a kidney transplant in the USA has more than 55 000 people on it …” “Moenie vir my sê hulle het …” “Dis reg, kommissaris,” sê Vusi en hy lees weer van die webblad af. “With the most modern medical facilities available, including dedicated, specialist aftercare in a beautiful environment, world-class surgeons and an international network of donors, you can receive your transplant within three weeks of arriving, at a fraction of the cost.” “Dis waarvoor hulle die mense ingesmokkel het,” sê Griessel. “Vir die organe,” sê Vusi. “Bliksem,” sê die kommissaris. “Ons beter mense by daai hospitaal kry, vir die rekords.” “Mat Joubert is klaar daar, kommissaris. Hy’t ’n groot span by hom.” “So hulle bring die mense in en dan maak hulle hulle dood?” “Nie altyd nie, kommissaris,” sê Vusi. “Blykbaar was dit die prys wat van die mense moes betaal het vir ’n beter lewe in Suid-Afrika. Hulle moes ’n nier of ’n long of ’n deel van hulle lewer skenk. Of ’n deel van ’n oog, korneas, en beenmurg ook, ek verstaan nog nie alles so mooi nie. Blykbaar kan jy baie van jou organe gee sonder dat jy iets ernstigs oorkom.” “En die harte?” “Ons sal moet gaan kyk, kommissaris, want die website praat van harte ook. Maar die een wat Rachel Anderson gesien het, die een wat De Klerk en Chitsinga by Kariba doodgemaak het, hy’t Aids gehad. Smith sê hulle het toetse by hulle gehad – voor hulle ’n ou daar onder in die sleepwa laai, het hulle sy bloed getrek, en dan toets hulle dit. Toe kom hulle agter hierdie een ou het Aids.
Toe gaan haal hulle hom daar uit, en hulle kon nie bekostig om hom net te laat loop nie.” “Watse soort mense is dit dié?” vra John Afrika. “Dis wat ek vir Duncan Blake gevra het,” sê Griessel. “Toe sê hy Afrika het alles van hom gevat, al sy drome, Afrika het sy hart uitgeruk. Hoekom kan hy dit nie ook aan Afrika doen nie?” Griessel se selfoon lui skielik en skril. Hy kyk na die skerm, staan op, loop eenkant toe en antwoord. Die kommissaris leun oor, kyk na die webwerf, sug diep, luister hoe Griessel geluide van ongeloof maak. Bennie Griessel kom terug lessenaar toe. “Dit was Mat,” sê hy. “Kommissaris, dié ding gaan lelik raak.” “Hoekom?” Daar is groot kommer in John Afrika se stem. “Daar’s ’n minister in die hospitaal se rekords.” “Een van ons ministers?” “Ja, kommissaris. Leweroorplanting.” “Ag nee, liewe fok,” sê John Afrika.
* * *
Fransman Dekker het al gehoor die SAPS se bruin rekenaarspesialis is ’n genie. Daarom verwag hy iemand wat soos Bill Gates lyk. Wat hy kry, is ’n klein, tengerige outjie met die gesig van ’n skoolseun, twee vermiste voortande, ’n groot Afro-haarstyl, ’n sekere afwesigheid van humor, en ’n ernstige lispel. “Dith thpookathem,” sê die genie vir Dekker in Wouter Steenkamp se kantoor. “Ekskuus, broe’?” vra Dekker, want hy verstaan nie ’n enkele woord nie.
“Thpookathem.” “Spookasem?” “Dith reg.” “Hoe so, my broe’?” “Oëverblindery. ’n PDF-pathword beteken nikth.” “ ’n PDF-pathword?” “Nee, ’n pathword.” “?’ “Dith reg. Menthe dink ath jy ’n PDF-pathword het, dan’th jy thecure. Maar dith nie thecure the gat nie.” “Nou hoe het hulle dit gedoen?” “Hierdie ou …” en hy wys na die rekenaar, wat aan Steenkamp behoort, “ … het die pathword protected PDF’s van elke thanger the verkope van die verthpreider af gekry. Met e-mail. Dit lyk my dit wath thy job om dit vir die thanger aan te thtuur ath die geld oorbetaal word.” “Raait.” “Die thanger dink dith net hy wat die pathword het, tho hy dink die record company kan nie die thtaat van THEE-D-verkope verander nie. Hy dink hy kry al thy geld.” “Omdat dit van die verspreider af kom?” “Ja, die verthrpeider het die pathword opgethit, maar aan hierdie ou ge-e-mail. En hierdie ou het dit vir die thanger ge-e-mail.” “Raait.” “Ma’ kyk hier …” en die rekenaargenie maak ’n program oop. “Dit ith Elcomthoft the Advanthed PDF Pathword Recovery, Enterprithe Edithion. Jy
koop dit van hulle webthite af, dit gaan jou tho net onder die duithend rand koth, maar dan kan jy met ’n PDF doen net wat jy wil, al het hy 40 bit encrypthion met Thunder Tables. Dit beteken dith thpookathem, enige pathword protection.” “So Steenkamp kon die ou se kry, en dan kon hy die state verander.” “Exthactly. Hy copy en pathte the PDF se tableth in Microthoft Exthell, verander die thyfers, maak ’n nuwe PDF, want hy’t Adobe Acrobat Profethional, the Thee Eth Three edithion, brand new, thtate of the art, en hy thit diethelfde pathword protection weer op. Nou dink die thanger dith die original PDF, hy weet nie hy’th gecon nie.” “Hoeveel het hulle geskim?” “Dit lyk my dit withel, van tien perthent tot veertig perthent, dit hang af hoeveel die thanger verkoop. Die groot ouenth, thooth hierdie Iván Nell, hulle het tot veertig perthent van hom gevat op thy laathte THEE-D.” “Liewe fok.” “My thentiments exthactly.”
18:37 – 19:51
49
Presies dertien uur nadat hulle vir Bennie Griessel in sy woonstel wakker gebel het, om 18:37, sê hy vir John Afrika: “Kommissaris, ek moet sewe-uur by Canal Walk wees, julle moet my asseblief verskoon.” Die kommissaris staan op, lê ’n hand op Griessel se skouer. “Kaptein, ek wil net vir jou een ding sê: As daar nou al ooit ’n man was wat ’n bevordering verdien het, dan is dit jy. Ek het nooit getwyfel dat julle dié ding gaan crack nie. Nooit.” “Dankie, kommissaris.” “Laat Vusi hier klaarmaak, gaan doen jou ding, ons praat môre weer.” “Dankie, Bennie,” sê Vusi van die tafel af, waar die dossier se ingewande besig is om te groei. “Plesier, Vusi,” en dan is hy uit, haastig, daar gaan nie kans wees om ’n ander hemp te gaan aantrek nie, maar hy kan vir Anna die storie vertel, van hoe die gat daar gekom het. En dan onthou hy hy skuld sy seun ’n telefoonoproep. Fritz, wat hom gebel het met die nuus dat hy klaar met skool is, dat hulle, Wet & Orde, met ’n ampersand, ’n “vet gig” gekry het, hulle “open vir Gian Groen en Zinkplaat op ’n toer, Pa, hulle praat van vyf-en-twintig duisend vir ’n maand, dis meer as sesduisend per ou.” Toe sê Griessel: “Ek bel jou terug, dit gaan ’n bietjie rof.” Hy klim in die kar, haal sy selfoon se handvrystel uit die paneelkissie, prop dit in, bel en ry, Buitengracht en N1 toe. “Haai, Pa.” “Hoe gaan dit, Fritz?’ “Nee, cool, Pa, cool.” “Sesduisend rand vir elke ou in die band?”
“Ja, Pa. Awesome, en hulle betaal vir ons etes en ons slaaplek en alles, Pa.” “Dis fantasties,” sê Griessel. “Ek weet. Pa, ’n professional musician het nie matriek nodig nie, Pa, vir wat, ek meen, hoekom moet ek weet van die sekslewe van die slak, Pa. Nou moet Pa en Ma net hierdie brief teken, want ek word eers in Desember agttien, Pa.” “Nou bring die brief, Fritz.” “Genuine, Pa?” “Ja, wat. ’n Ou het nie meer as sesduisend ’n maand nodig nie. Want jou woonstel gaan jou, sê nou maar tweeduisend kos …” “Nee, Pa, ek gaan nog eers in die huis bly, so …” “Maar jy gaan darem seker vir jou ma losies betaal? Vir die wasgoed en die skoonmaak en die kos?” “Dink Pa so?” “Ek weet nie, Fritz – wat dink jý is die regte ding?” “Sure, Pa, dit klink reg.” “En dan gaan jy ’n kar nodig hê, kom ons sê ’n paaiement van so tweeduisend, plus die versekering en die petrol en die dienste, drie, drie en ’n half …” “Nooit, Pa, Rohan het ’n Ford Bantam vir twee-en-dertig opgetel, ’n ou hoef nie met ’n grand kar te begin nie.” “Waar het hy die twee-en-dertig gekry?” “By sy pa.” “En waar gaan jy twee-en-dertig kry?” “Ek … e …” “Maar kom ons sê jy spaar tweeduisend ’n maand vir ’n kar, dan’s dit net vyftien
maande, ’n jaar en ’n half, dan het jy ’n Bantam, maar nou trek ons al by vierduisend se uitgawes, en jy het nog nie klere gekoop nie, jy het nog nie lugtyd vir jou selfoon nie, jy het nog nie snare vir jou kitaar, skeermeslemmetjies, after shave, deodorant nie, jy het nog nie ’n chick gevat vir ’n ete …” “Ons praat nie meer van chicks nie, Pa.” Maar die eerste tekens van begrip is al in sy seun se stem, die geesdrif het getaan. “Nou waarvan praat julle?” “Girls, Pa.” “En as die toer verby is, Fritz, waar kom die volgende sesduisend vir die maand vandaan?” “Daar sal wel iets wees.” “En as daar nie iets is nie?” “Hoekom is julle altyd so negatief, Pa? Julle wil nie hê ek moet gelukkig wees nie.” “Hoe gelukkig gaan jy wees as jy nie ’n inkomste het nie?” “Ons gaan ’n CD maak, Pa, ons gaan die toer se geld vat en ’n CD maak en dan …” “Maar as julle die toer se geld vat, waarop gaan julle leef?” Stilte. “Julle gun my niks. ’n Mens mag nie droom nie.” “Ek gun jou alles, my seun. Dis hoekom ek die vrae vra.” Geen reaksie nie. “Sal jy nog so bietjie dink, Fritz?” “Vir wat moet ek weet oor die sekslewe van ’n slak, Pa?” “Dis ’n ander argument daardie. Sal jy dink?”
Traag, onwillig, kom die “Jaaa, Pa”. “Nou toe, ons praat weer.” “O.K., Pa.” “Bye, Fritz.” “Bye, Pa.” Hy glimlag vir homself in die motor op die N1. Sy seun. Net soos hy was. Vol planne. Tot hy vooruit dink. Aan Anna. Dan verdwyn die glimlag. En ’n benoudheid kom lê op hom.
* * *
Sy sit buite, waar jy die water kan sien. Dis ’n goeie teken, dink hy. Hy staan vir ’n oomblik in Primi se deur en kyk vir haar. Sy Anna. Twee-enveertig, maar sy lyk goed, dit is asof sy die juk van haar man se alkoholisme die afgelope maande afgegooi het, sodat daar weer ’n jonkheid in haar is. Die wit bloes, die blou denim, die truitjie oor die skouers gegooi. Dan sien sy hom. Hy hou haar gesig stip dop as hy na haar toe loop. Sy glimlag, maar nie groot nie. “Hallo, Anna.” “Hallo, Bennie.” Hy soen haar op die wang. Sy draai nie haar kop weg nie. Goeie teken. Hy trek ’n stoel uit. “Jy moet verskoon hoe ek lyk, dit was ’n mal dag.” Haar oë sien die gat in die sak. “Wat het gebeur?”
“Hulle het my geskiet.” En hy sit. “Here, Bennie.” Goeie teken. “Grootste geluk van my lewe. Net ’n uur voor dit, toe sit ek ’n Leatherman in my sak, jy weet, een van daardie tangetjies.” “Jy kon dood gewees het.” Hy haal sy skouers op. “As dit jou dag is, is dit jou dag.” Sy kyk na hom, haar oë oor sy gelaat. Hy smag op daardie oomblik dat sy haar hand sal uitsteek, soos in die ou dae, sy deurmekaar hare sal platstryk, sal sê: “Bennie, jou boskasie …” Hy sien hoe haar hand beweeg. Sy lê dit weer neer. “Bennie …” sê sy. “Ek’s nugter,” sê hy. “Dis amper ses maande.” “Ek weet. En ek is baie trots op jou.” Goeie teken. Hy grinnik vir haar, met verwagting. Sy trek haar asem diep in. “Bennie … Daar’s net een manier om dit te sê: Daar’s iemand anders, Bennie.”
50
In sy motor haal Fransman Dekker die lys van name en telefoonnommers uit. Natasha Abader s’n is heel bo. Daar’s nie ’n vrou wat na jou kan kyk en nie aan seks dink nie. Tyd om uit te vind of sy ’n bullshitter is. Hy druk die nommer in sy selfoon in. Dis ’n dwelm vir die siel. Ek dink hulle het ’n leegheid hier binne, ’n ding wat nooit wil vol word nie, miskien help dit vir ’n rukkie, vir ’n dag of twee, dan begin dit weer van voor af. Ek dink daar’s ’n rede, ek dink hulle hou nie van hulleself nie. Sy eie woorde. Aan Alexa Barnard. Hy het ’n vrou by die huis. ’n Goeie, mooi, sexy, slim vrou. Crystal. Wat vir hom wag. Hy kyk na die klein groen knoppie op die selfoon. Hy dink aan Natasha Abader se bene. Daardie gat. Haar borste. Klein en parmantig, hy weet hoe hulle sal lyk, hy kan die tepels sien, pertinent. Sy sal ’n hand vol wees. In elke opsig. Daar’s iets stukkends hier binne. ’n Seer wat ’n lang pad kom, wat nooit heeltemal weggaan nie, dit kom elke keer terug, erger, maar die medisyne help al hoe minder. Die een of ander tyd sal hy sy nonsens moet los. Want hy’s lief vir sy vrou, die fok weet, hy kan nie sonder Crystal nie, sy is sy alles. En as sy moet weet … Hoe gaan sy uitvind?
Die koors is in hom. Hy druk die knoppie. “Natasha, hallo.”
* * *
“Dis Vusi Ndabeni. Die speurder van vanoggend, by die kerk.” “O, haai,” sê Tiffany October, die patoloog. Sy klink moeg. “Jy’t seker ’n besige dag gehad.” “Hulle is almal besig,” sê sy. “Ek het gewonder,” sê Vusi, sy hart wat in sy borskas klop. “As jy wil …” Die lyn is dawerend stil. “As jy dalk iets wil gaan eet. Of drink …” “Nou?” “Nee, ek bedoel, enige tyd, miskien ’n ander aand …” “Nee,” sê sy, en Vusi se hart sink. “Nee, nóú,” sê sy. “Asseblief. ’n Bier. ’n Windhoek Light en ’n bord slaptjips, dit sal wonderlik wees. Ná so ’n dag …”
* * *
Op die N1 ry hy, sy kop werk vooruit, hy sal geld trek by die ABSA-kitsbank onder in Langstraat, by die Ontvanger se kantore. Want hy’t sy laaste kontant vir Mat Joubert gegee, vir die Steers-burgers wat hy gebring het. En dan die drankwinkel bo in Buitengracht, dit is tot agtuur toe oop. Hy gaan ’n bottel Jack
koop en ’n tweeliter-Coke en hy gaan homself in ’n fokken koma in drink. Daar’s iemand anders. Toe vra hy: “Wie?” Toe sê sy: “Dit maak nie saak nie. Ek is so jammer, Bennie, dit het net gebeur.” Fok dit. Net gebeur. Sulke goed gebeur nie net nie. Jy gaan soek daarvoor. Sê vir hom hy mag vir ses maande nie suip nie, en dan gaan soek sy ’n fokken man, hy sal die fokker moer toe blaas, hy gaan uitvind wie dit is, hy sal haar fokken agtervolg en hy sal die doos tussen die fokken oë skiet. Seker die een of ander jong prokureurtjie daar waar sy werk, te kaksleg om vir hom ’n meisie van sy eie te kry, nou sleep hy vlerk met sy fokken BMW en sy pakkies klere by ’n poliesman se vrou. Nou sal hy uitvind wat met jou gebeur as jy met ’n poliesman se vrou lol, hy gaan die doos blaas, dan sal ons sien. Hy’t orent begin kom. “Ek is so jammer, Bennie, dit het net gebeur.” Toe sit hy weer en kyk vir haar, wag dat sy moet sê sy’s nie ernstig nie, want hy weier om die volle impak te aanvaar, hulle is hier sodat sy kan sê hy’t die drank gelos, hy kan terugkom. Maar toe sit sy net met fokken trane in die oë, moerse jammer vir haarself. Duisend goed in sy kop. Hy’t amper gevrek vandag. Hy’t gestry teen die drinklus, vir eenhonderd-ses-en-vyftig dae, hy’t onderhoud betaal, hy’t vir hulle gesorg, hy’t alles reg gedoen, sy kan dit nie doen nie, sy het nie die reg nie, not ’n moer, maar haar betraande oë het net na hom toe teruggekyk met ’n verwese finaliteit, tot al die gewig van die implikasies soos ’n swakgeboude huis op hom ingeval het. Toe staan hy op en hy loop. “Bennie!” het sy agterna geroep. Bennie gaan suip. Dis wat hy vir haar moes gesê het, maar hy het net aanhou loop, uit by die fokken restaurant, na sy kar toe, met sy stukkende hemp en sy deurmekaar hare, sien niks, hoor niks, voel net hierdie ding, en die kwaad, alles verniet, alles fokken verniet.
* * *
Hy trek R500 en hy sien wat hy oor het vir die maand en hy dink aan Duncan Blake, wat daar in die ondervragingskamer gesit het en gesê het: “How much for all of this to go away?” “I’m not for sale.” “This is Africa. Everybody is for sale.” “Not me.” “Five million.” “How about ten?” “Ten can be done.” Toe lag hy. Maar hy moes die fokken geld gevat het, tien miljoen kan baie drank koop, tien miljoen, dan het hy vir hom ook ’n fokken BMW en smart pakkies klere gekoop, en ’n R150-haarsny en wat dit ook al is wat Anna in die klein doos sien. Laat hy gaan drank koop. Sy selfoon lui as hy terugloop kar toe. Hy kyk nie na die skerm nie, antwoord net. “Griessel.” Bot. Kortaf. “Captain, this is Bill Anderson … Is this a convenient time?” En die eerste ding wat hy dink, is dat iemand weer vir Rachel het en hy sê: “Yes.” “Captain, I don’t know how to do this. I don’t know how to thank a man for saving your child’s life. I don’t know how to thank a man who was willing to put his life on the line, who was willing to be shot at to save the daughter of somebody he’s never met. It’s not something I have any training for. But my wife and I want to say thank you. We owe you a debt we can never repay. We’re
on our way to South Africa – our plane is leaving in two hours’ time. When we get there, we would like to have the honour of taking you to dinner. As a gesture, of course, as a small token of our immense gratitude and appreciation. But right now, I just want to say thank you.” “I … uh … I was just doing my job.” Hy kan aan niks anders dink om te sê nie. Die oproep is te skielik, daar’s te veel ander goed in sy kop. “No, sir, what you did went way beyond the call of duty. So thank you. From Jess, Rachel, and myself. We would like to wish you the very best, for you and your family. May all your dreams come true.”
* * *
Hy sit in sy kar voor die kitsbank. Hy dink aan Bill Anderson se woorde. May all your dreams come true. Sy enigste droom was dat Anna hom moet terugvat. Nou’t hy fokkol. Net die droom om dik dronk te word. Hy skakel die enjin aan. Dink aan Fritz se woorde, sy seun se droom. Wet & Orde. En Carla, wat in Londen gaan werk het, want sy wil terugkom en vir haar ’n kar koop en universiteit toe gaan, en hulle al twee droom van ’n nugter pa. Hy skakel die enjin af. Hy dink aan Bella van Breda se droom van haar eie besigheid. Alexa Barnard wat gesê het sy het so lank gedroom van sangeres wees. Duncan Blake: Afrika het alles van my gevat, al my drome … En Bill Anderson. May all your dreams come true. Hy maak die paneelkissie oop, haal die sigarette uit, steek een aan. Dink. Aan
baie dinge. Lize Beekman se liriek wat in sy kop kom. As jy vir liefde omdraai. Hy sit lank só, terwyl die wêreld verbyjaag in Langstraat. Dan draai hy om.
* * *
Bennie Griessel blaas die R500 op blomme. Die eerste bossie gaan lewer hy af by Mbali Kaleni se saal. Hulle sê hy mag nie ingaan nie. Hy skryf vir haar ’n boodskap op ’n kaartjie. Jy is ’n dapper vrou en ’n goeie speurder. Dan loop hy na Rachel Anderson toe en sit ’n bos blomme langs haar op die bed neer. “They’re beautiful,” sê sy. “And so are you.” “And those?” vra sy oor die ander blomme in sy arms. “These are a bribe,” sê hy. “Oh?” “Yes. You see, I have a dream. I’m going to start a band. And we are going to need a singer. And I happen to know a great singer who’s right here, in this hospital,” sê hy. “Cool,” sê sy, en hy wonder of hy haar aan Fritz kan voorstel.
51
From:Bennie Griessel [mailto:
[email protected] Subject:Vandag
Liewe Carla Ek is jammer ek skryf nou eers. My laptop wou nie op die Internet gaan nie, dit was ’n groot gesukkel, maar hy is nou reg. Dit was ’n lang dag en ’n moeilike een. Ek het so baie aan jou gedink en verlang. Maar ek het darem ’n beroemde sangeres ontmoet en bevordering gekry. Jou pa is vandag ’n kaptein.
Erkennings
Elke boek se navorsing is soos ’n ontdekkingsreis – jou sukses word grootliks bepaal deur die kennis, insig, ervaring en welwillendheid van die gidse wat jou vergesel. Met 13 Uur was ek bevoorreg om die reis met briljante gidse mee te maak, aan wie ek diepe dank en waardering verskuldig is: Theuns Jordaan, die ware heer van die Afrikaanse musiekbedryf, en die vergestalting van alles wat reg en goed is daaraan. Hy het, te midde van ’n besige skedule, kosbare ure afgestaan en met groot geduld my nimmereindige vrae beantwoord – selfs een keer agter die verhoog voor ’n optrede. Sonder hom sou 13 Uur veel armer gewees het. Baie dankie ook aan Linda Jordaan, wat dié ontmoetings met soveel professionaliteit en gasvryheid georkestreer het. Albert du Plessis, stigter en besturende direkteur van Rhythm Records, sekerlik een van die skerpste breine in die musiekbedryf, wat die geheimenisse daarvan aan my blootgelê het. Die weergalose kaptein Elmarie Myburgh van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Sielkundige Ondersoekeenheid in Pretoria. Ek kan haar nie genoeg lof, erkenning en dank gee nie. My wêreldklas-redakteur, dr. Etienne Bloemhof. Dis my sesde roman waarin hy ’n reuse-aandeel het. Hoe sê ’n mens daarvoor dankie? My agent, Isobel Dixon, vir haar professionaliteit, bystand, aanmoediging en onberispelike oordeel. My vrou, Anita, vir haar liefde, geduld, ondersteuning, wysheid, bestuur, organisasie, fotografie, koskuns … Andries Wessels, vir die lees en uitstekende raad. Anton Goosen, Anton L’Amour, Richard van der Westhuizen, Steve Hofmeyr en Josh Hawks van Freshlyground, wat in informele gesprekke kennis bygedra het.
Neil Sandilands, wat onwetend die storie-saadjie geplant het. Jill Quirk van die English Graduate Office, Purdue-universiteit. Dan Eversman van die Hodson’s Bay Company in Wes-Lafayette, Indiana. Judy Clain van Little, Brown in New York. Die personeel van Carlucci’s Quality Food Store in Bo-Oranjestraat.
Ek gee ook graag erkenning aan die volgende bronne: Die Media24-databasis by www.koerantargiewe.media24.com LitNet (www.litnet.co.za) Gray’s Anatomy (www.graysanatomyonline.com) http://world.guns.ru Referaat: Standards Employed to Determine Time of Death, Jeff Kercheval, VICAP International Symposium, Quantico, Virginia. www.baltimoresun.com www.eurasianet.org www.africanoverland.co.za http://goafrica.about.com
www.deonmeyer.com/afrikaans/indeks.html
Die einde
Om 05:36 hardloop die vrou teen die hang van Leeukop. Sy is jonk, beeldskoon, Amerikaans, beangs. Want sy word soos ’n dier gejag. Om 05:37 bel hulle vir speurder-inspekteur Bennie Griessel wakker. Hy moet kom, ’n jong meisie se lyk lê langs St. Martini, die Lutherse kerk bo in Langstraat. Om 07:02 ontdek die drankbenewelde voormalige sangsensasie Alexa Barnard haar man se lyk langs haar – en die moordpistool net sentimeters van haar hand af. Teen 09:00 begin Griessel vermoed sy nuwe rol as mentor van die volgende geslag wetstoeers is dalk ietwat meer gekompliseerd as wat hy gedink het. Anderkant twaalfuur is hy in ’n wedloop teen tyd om die mooi jong toeris se lewe te red. En laat in die middag skiet hulle vir Bennie Griessel. Reg in die hart. Redelik normale dag, jou tipiese 13 uur van Suid-Afrikaanse wetstoeing.
Deon Meyer, ’n oud-joernalis en reklameman, is ook bekend as internet-strateeg. Hy woon tans in Stellenbosch. Sy publikasies sluit in nege romans (Wie met vuur speel, 1994, Feniks, 1996, Orion, 2000, Proteus, 2002, Infanta, 2004, Onsigbaar, 2007, 13 Uur, 2008, Spoor, 2010, en 7 Dae, 2011). Drie daarvan – Orion, Proteus en Infanta – is met die ATKV-prys bekroon, terwyl hy in 2008, 2009 en 2012 die ATKV se Prys vir Spanningslektuur ontvang het vir, onderskeidelik, Onsigbaar, 13 Uur en 7 Dae.
Deur dieselfde skrywer:
Wie met vuur speel (1994) Feniks (1996) Orion (2000) Proteus (2002) Infanta (2004) Onsigbaar (2007) Karoonag en ander verhale (2009) Spoor (2010) 7 Dae (2011)
Wie met vuur speel (1994)
Feniks (1996)
Orion (2000)
Proteus (2002)
Onsigbaar (2007)
Karoonag en ander verhale (2009)
Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms) Bpk, Heerengracht 40, Kaapstad, 8001 Posbus 5050, Kaapstad, 8000, Suid-Afrika www.humanrousseau.com
Kopiereg © Deon Meyer 2008
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting.
Outeursreg: Jac Kritzinger Omslagfoto: Trevillion Images Omslagontwerp: Mike Cruywagen E-boekontwerp: Trace Digital Services
Ook beskikbaar in druk:
Eerste uitgawe, eerste druk 2008 Eerste uitgawe, agste druk 2012 Tweede uitgawe, eerste druk 2013 ISBN: 978-0-7981-6548-8
Epub-uitgawe: Eerste uitgawe in 2013 ISBN: 978-0-7981-5745-2 (epub)
Mobi-uitgawe: Eerste uitgawe in 2013 ISBN: 978-0-7981-6156-5 (mobi)