Anderkant die Eerste ster
Deur: VDS Brink
Geïllustreer: Hanlie van Schalkwyk
Vierlanden Villas 11, Botterblomstraat, Durbanville 7550
2e Uitgawe, 2015 – 07 - 15
ISBN: 9781311198921
Published by VDS Brink at Smashwords, Inc.
[email protected]
Inhoud
Voorwoord 1 Anderkant die eerste Ster 2 Die Loch Ness Monster 3 Tussen treine, tussen stasies 4 Uit 'n ander Wêreld 5 Reik na die sterre 6 Dit kom van vêr af 7 Ek word ook oud 8 Vat jou goed en trek, Jan Ferreira! 9 My hartjie my liefie 10 Skoppensboer 11 Die vlug van die Arend 12 Die hoogste Tol 13 Dit kom met die Sekelmaan 14 Beskermengel 15 Griekse Biefstuk in vyf maklike stappe 16 Sweef soos ʼn Arend 17 Vang die Son
18 Liewe Heksie in 2014 19 Die Stoute Wolkie 20 Katonkie leer vlieg 21 En drie maal kraai die haan 22 Sprokie vir ʼn Woudkind 23 Ons kindervriend 24 Sak Sarel! 25 Vaderlike raad 26 Ons kan alles doen! 27 Die Eindstryd 28 Vinniger as Arende was hulle, sterker as Leeus 29 Drinkebroers 30 Salig is die Sagmoediges 31 Salig is die Vredemakers 32 Amarula is koning 33 Die onbesonne held 34 Daar kom die wa 35 Die Bittereinder 36 Meneer Hennerik Pretorius 37 Die Suiderland 38 Weemoed in die Steppe
39 ʼn Kissie vol Soentjies 40 Lewensredding 41 De Vliegende Hollander 42 Die grootste kersgeskenk 43 Die Wortel van al die Kwaad 44 Die wêreld is ʼn toneelstuk 45 Jan Rap en sy Maat 46 Allegro 47 Verdwaalde Koeël 48 Die Bloutrein 49 Die swaard van ʼn Held 50 Die Koeël is deur die Kerk 51 Die hoogste offer 52 Meer of Min 53 Ek kon slange vang 54 Weemoed in die feesgety 55 Boela se wraak 56 Die vark in die verhaal 57 My pa is ʼn koning 58 Kantoor Kapperjolle 59 Om jou ore aan te sit
60 Sneeuwitjie in die nag 61 Eendjies stap in ʼn ry 62 Griekse Biefstuk 63 Voshaar meisiekind 64 Besoeker uit die Heelal 65 Vergewing 66 Wys my die plek 67 Eens toe jy myne was 68 Kindjie van die Wind 69 Sy kom met die volmaan 70 Gamtosie se weerwraak 71 Die naakte waarheid 72 Koshuiskaskenades 73 Sak in die losskrum 74 Telewraak 75 Spoor van haat 76 Die tweede kans 77 Die Padda Prinses Om oor te gee Die Lelike Eendjie Skrywer
Voorwoord
Flitsstories is korter as ʼn duisend woorde. Dit kyk na die lewe uit alle hoeke en verskeie genres. Fantasie, sprokie, inspirasie, wetenskapfiksie, liefde, spook, riller, aksie, satire, speur en misterie. Dit is gegrond op vyftig jaar in die soet en die suur van die lewe. Dit speel af in verskillende lande en tonele. Flitsstories is moeilik, die skrywer moet met die minimum van woorde die leser se verbeelding neem en al die elemente van ʼn lang verhaal bondig aanbied. Die stories is geskryf as lid van ʼn flitsstorie groep en ook as werkstukke van ʼn kortverhaal kursus. Dit kyk na die lewe in vele fasette en deel ervaringe, skep fiktiewe gebeure. Die meeste van die stories is fiksie met karakters. Dikwels word dieselfde karakters gebruik, maar in ʼn ander konteks. So gee dit vir die leser ʼn mate van kontinuïteit. Die titel met erkenning aan Uys Krige, “En Fort Wajir lê ver, lê ver, ander die eerste ster …”
1 Anderkant die eerste Ster
Dit is maar net tien kilometer groot en draai stadig in die rondte. Almal is baie bang, die eerste tekens reeds weke gelede gesien. Ver bo almal in die ruimtestasie is Lydia die eerste wat die spikkeltjie deur haar teleskoop sien, “Ag wat dis niks, al weer ʼn bohaai wat sal verby gaan.” As die volgende drie weke net kan verby gaan. Dit raak nou net te lank en alleen hier bo. Sy verlang so na Pieter en klein Leon. Die outjie skaars ʼn jaar oud, praat sonder ophou en vermaak mens sover hy gaan! Die Meerkat ruimtebeheerstasie by Carnarvon kontak haar elke uur, “Lydia, jy moet nou baie mooi kyk en vir ons presies meet. Sy naam is Elkiya II.” Weke gaan verby, en almal weet nou dit is onvermydelik dat die botsing gaan gebeur. Lydia sit vasgenael voor die patryspoort, die voorwerp nou groot en duidelik, die vlamme spat toe dit die atmosfeer tref. Sy sien duidelik Johannesburg se liggies ver onder haar. Die voorwerp tref die aarde skaars 80 kilometer suid van die stad. Alles is verby, alle lewe op aarde vernietig ... vir altyd.
Lydia land in Franschhoek. Hier het sy groot geword, Pieter en klein Leon sou hier wag by hul huis teen die berg op hul plaas La Petite Provence. Pappa en Mamma weer waar sy groot geword het op Mont Rochelle net buite die dorp. Om haar is niks, geen lewe, geen plante net niks … Aan die Hugenote Monument hang dit aan ʼn dik tou. Die lewelose oë staar na niks. Dit het al baie gebeur, maar vir die heel eerste keer ooit is daar geen brommers …
Geinspireer deur Leon Rousseau se “Groot Avontuur” en die asteroide wat 2000 miljoen jaar gelede by Vredefort geval het. Die titel van Uys Krige se "Fort Wajir is ver, is ver, ander kant die eerste ster."
2 Die Loch Ness Monster
“Kommandant! Kommandant!” roep die rapportryer en sy vosbruin hings trippel in ʼn stofwolk tot langs die slapende kommandant Piet Haasbroek. “Wat is dit nou weer, Jan?” “Kommandant, ek kom nou net van Kroonstad af en het ʼn draadberig van oom Paul homself!” Piet skrik helder wakker, “Oom Paul! Kannie wees nie!” Versigtig en bang maak hy die koevert oop en begin die draadberig lees, “Ik neem kennis van burger Koos Nel's heldhaftige actie en bevordert hem hier mee tot Veldkornet. Getekend, SJP Kruger.” “F#@$kkit! Net nie dit nie! Wat maak ek nou? Die dronklap is nou ʼn veldkornet!” Koos se werk is om die Kakies wat hulle gister gevang het, op te pas. Hy sit met die Kakies se Lee Metford op sy knieë en hou wag oor die vyftien half besope Skotsmanne. Tussen sy voete die amper leë erdekruik gekonfiskeer by die dronklappe, trippel gedistilleer. Die lewe is ʼn lied! So half eenkant sit ʼn ou. Hy hou vir Koos fyn dop. Hendrick McLeod en dis nou net hier waar die jakkalsdraaie gaan begin. “Ou Koos, hoe lyk dit met nog so ʼn doppie daar?” In sy beneweling kyk Koos verbaas op, die Kakie in die rok praat dan ons Taal! Dis nou net hier waar ons eers ʼn vêr draai moet gooi. Sien so agtien jaar tevore het die berugte Rotterdamse opium smokkelaar, Hennerik Maneschijn gereeld die kanaal trotseer om sy ware in Inverness te gaan lewer. Terwyl hy daar was, dan ook sommer van die verbode vrugte gaan pluk. Een so ʼn vruggie was die mooie, sproet gesiggie, Sally McLeod. Oor die jare het hy gereeld vir sy seun gaan kuier en sommer groot gemaak om die winsgewende
bedryf later oor te neem. Klein Hendrick ken die Taal, dit kan ek jou nou vertel! In hul dorpie was sy titel, “The village idiot.” Al rede hoekom hy hier by die Royal Highland Fusiliers is, is omdat hy van “the Taal” iets van weet. Wys jou net, domgeit kan ʼn bate wees! En nou, hou jou hart vas want die nuut bevorderde en meestal half besope veldkornet en die dowwe ou van Loch Ness is nou dalk kop in een mus ... wees bang, sommer baie bang! Die twee loer af in die gat na die snorkende Kakies en kyk lank en diep in mekaar se oë ... “Ou Hendrick, nou vertel my meer van jou dinge?” “Jy sien Koos, waar ek vandaan kom woon mos die reuse monster in die dam reg voor ons huis.” “Kannie waar wees nie! Regtig?” vra Koos. “Genuine! En elke nag presies drie uur dan snork hy en klim uit en dan al wat jou red is tien slukke double distilled ...” Ou Koos sug diep, "dit sal darem nou lekker wees.” “Ou Koos, kan ek jou ʼn geheim vertel? Waar dink jy kom die erdeflesse vandaan?” “Waar?” vra Koos gretig. "Kom laat ek jou gaan wys!" Op ʼn drafstap is die twee af in die rivier so een myl verder, “net hier, Koos, grou!” Koos grawe met sy hande en sowaar, nog vier groot flesse! “Sal ons ’n doppie maak ou Koos?” Hendrick trek die kurk uit en maak asof hy ’n diep sluk gee. Koos gryp die fles en sy adamsappel spring op en af. “Gee vir my ook,” en weer maak Hendrick of hy sluk. Kort voor lank sak Koos op sy knieë, “Ou Hendrick, jysh mosh ʼn pel duishend”
Die genadige donkerte sak op hom neer.
Intussen terug by kamp vergader Kommandant Haasbroek en sy veldkornette. “Ouens, Koos is nou ʼn veldkornet, ons sal moet saam leef daarmee. Kom ons stap af en gaan vertel hom en dan sal een van julle sal by die Kakies daar in die gat moet af los.” Hulle kom by die gat, geen Kakies, geen Lee Metford, net ʼn uitstrekte snorkende Koos. “Koos, word wakker!” beveel die kommandant. Koos se een oog gaan oop, “... Hendrick waarsh jy, ha? ... jou twee gat jakkalsh!”
Gebaseer op ’n onlangse besoek aan Inverness en ontmoeting met die berugte monster.
“Gooi nog ʼn doppie daar.” Bron: David Kramer se Royal Hotel.
Die stuur van woorde oor drade is reeds in 1841 gedoen na die uitvinding van Samuel Morse. Gedurende die ABO is die woord “Draadberig” hiervoor gebruik. Bron: Schoeman, J. 1950. Genl Hendrik Schoeman, ʼn verraaier?
3 Tussen treine, tussen stasies
“Elke keer was dit 'n afskeid, elke keer weer 'n begin, 'n honderd haltes langs die spoor, elke stasie het sy eie skim.”
Die sekelmaan hang stil in die weste, die blare van die bloekoms hang stil. “Jy kan maar blaas ou Pieter, die groen vlag waai al!” sê Koos. Pieter trek die ketting in die dak en die skril fluit weergalm oor Hutchinson stasie. Koos trek die hefboom en die 25C begin stadig vorentoe kruip, die Trans Karoo agter hom met die slapende asiers. Voor op die rook deflektors staan met trots en blink ge-Brasso, “Annemarie” Gou-gou wys die spoedmeter 50 myl per uur. “Nog 5 om te gaan dan is ons daar!” sê Koos. “Pieter gee nog so bietjie gas jong, ek maak vir ons koffie!” Pieter neem die graaf en skep diep en gooi vêr in die vuurkas. Die 8 reuse wiele klip-klap op die laste. Koos kyk uit na sterrehemel soos jy net in die Roggeveld sal sien. Biesiespoort kom nader, die sinjaal is op en die nag voorman staan reeds gereed op die platform om die ring aan te gee. “Hallo Johan!” roep Koos vrolik. “Mooi ry oom!” Pieter weet wat nou gaan gebeur, almal in De Aar lag mos daaroor, sit sy graaf neer en leun saam met Koos by die venster uit. Net hulle by die koppies anderkant die van die stasie verby ry en die dowwe lamplig in die plaas opstal mooi sien, val hy luidkeels saam met die oom in, “My oom se motor is ’n ou masjien ... stuur groete aan Mannetjies Roux!” “Lekker slaap ou Mannetjies en tannie Charlotte!” roep Koos in die nag. Die 25C, sy paf-paf mos nie, want C staan vir “condenser”, loop heerlik en navigeer die smal spoor met al die wysheid van haar 50 jare. Dit word skemer in
die Ooste, Drie Susters reeds agter hulle en die reis byna verby. Hulle maak die wye draai om Beaufort se dam. “Weet jy Pieter, dis net hier waar Dokter sy dogter leer ski het ...” Die pale verskyn weerskante van die spoor, die dik draad hang oor hulle. Toe hulle Beaufort binnegaan, die geklik van die wielslaners weerklink ... en dreigend staan die blinknuwe 6Es geparkeer. “Pieter, ek belowe jou niemand sal ooit ʼn draadkar ʼn naam gee nie,” sê Koos verbitter. Koos en Pieter haak af, rangeer tot by die skuur, draai vir Annemarie om en blaas af. Nou gaan rus om vanaand weer terug huis toe te gaan. Huis toe ... vir die heel laaste keer. Koos en Annemarie sal saam moet gaan. Sy na die skrootwerf se genadelose sweisvlam en Koos sal weer alleen oorbly. Weer alleen met net sy hoenders in die agterplasie en die ou drywers wat altyd bymekaar staan. Koos maak sy kosblik oop, daar is ʼn bossie wit rose, vir die laaste keer stap hy na die ou kerkie in die hoofstraat, kniel by die graf en soos hy al die jare doen, en sit wit rose op die graffie van Dokter.
Die volgende oggend, baie vroeg, stap hy weer met nog bossie rose na De Aar se kerkhof om vir haar te gaan gee, nou reeds 15 jaar van hom weggeneem, om weer en weer te gaan huil oor ... Annemarie.
’n Lewensskyfie van iets wat verbygegaan het. Erkenning aan Richard van der Westhuizen, Lochner de Kock en Laurika Rauch se lirieke, die fotos is by Rovos Rail in Capital Park, Waterval Onder en Beaufort Wes geneem. Die 6E is ʼn iStock foto. Die rolprent Roepman en my vele ritte van Hutchinson na die kosskool in Kaapstad as inspirasie.
4 Uit 'n ander Wêreld
Die tuin is pragtig, die gras gesny en die rose in volle blom, maar tog het die huis langsaan jare leeg gestaan. Gordyne is toegetrek, geen mense ooit daar gesien nie. Een nag, in die middel van die winter, met ʼn ysige wind uit die suide, die vroeë oggend ure, word Pietertjie wakker. Hy kyk deur die venster en al die ligte skyn langsaan is vir die eerste keer ... Nag na nag word hy wakker en dan is dit so, tot een keer ... sy staan net daar, donker hare, bruin sluimerende oë, amper soos ʼn sigeuner. Elke keer kyk sy vir hom, glimlag effens en waai selfs. Sy neem sy drome oor ... Sy was uit ʼn ander wêreld, dalk van iewers vêr, dalk uit ʼn ander tyd? “Wat is haar naam?” wonder Pietertjie, “kan dit dalk iets soos Anastasia wees?” Hy is skaars twaalf jaar oud en dit is sy groot geheim. Dit te kosbaar en sy skans teen die brutale aanslae in sy lewe, want elke dag in die skool ʼn nagmerrie met alles moontlik wat verkeerd gaan. Net sy goeie punte in Wiskunde kan effens opmaak. Klein, lelike bleeksielietjie en sy grootste vrees, Paul die boelie. Hy het altyd geweet waar om hom in ʼn hoek te druk, te stamp in sy maag en seer te maak tot vreugde van sy vriende. Sy huis is sy veilige hawe, sy wonderlike ouers en veral die middernagtelike kykies oor die heining, al wat hy voor leef.
Dit is Vrydagaand, sy ouers weg na ʼn funksie en die deurklokkie lui. Pietertjie maak dit oop en Paul en sy drie vriende storm in. “Jou klein vark!” skree Paul terwyl hy rook in sy gesig blaas. “Wie is jy om altyd van ons gekke te maak met jou goeie punte?” Hulle gooi hom op die vloer en skop in sy maag.
“Dit sal vir jou ʼn les leer!” Die houe hou aan en aan en die seerkry verskriklik.
Die deur kraak stadig oop en sy, petite klein, stap in. Nee ... dit lyk eerder asof sy insweef. Sy dra ʼn kleed met ʼn kappie, amper Middeleeus. Sy loop reguit na Paul toe, haar bruin oë gluur. “Wat het ons hier?” vra Paul met ʼn breë wellustige glimlag. “Wat ʼn beauty! Net waarvoor ek voor so lank gewag het!” Hy gryp na haar, maar sy klap sy hande weg, slaan haar arms om sy lyf en slinger hom oor die vertrek. Hy tuimel drie of vier keer deur die lug voordat hy die vloer tref en net daar bly lê. Bloed syfer uit ’n wond aan sy kop en sy linkeram is skeef onder hom ingevou. Sy stap na die ander, die een kry ʼn vuishou in die maag en toe hy dubbel vou breek haar knie sy neus, die volgende een probeer wegkom, sy gryp hom aan sy voet, tel hom kop onderste bo op slinger hom by die voordeur uit. Die derde een smeek om genade ... om met een klap die muur te tref.
Sy kom na Pieter toe, kniel by hom, droog sy trane af en hou hom vas en kyk met daardie sagte bruin oë. Sonder ʼn woord staan sy op en verdwyn in die nag. Hy weet dat hy haar nooit weer sal sien nie, sy sal altyd ʼn kosbare herinnering wees, sy was uit ʼn ander wêreld ... want ...
Langsaan, een vir een, vir laas doof die ligte uit ...
5 Reik na die sterre
Die groot sekelmaan skuif verby, Lydia kyk deur die klein ronde venstertjie met verwondering en dink, “Sover nog om te gaan, gaan ons oorleef en wat dan?” Sy is saam met Igor, Jacques, Heidi, John en Gabriella uit miljoene aansoekers gekies, op pad na die mens se grootste prestasie ooit, die landing op ʼn ander planeet. Sedert 2035 vir tien jaar lank beplan en gebou. Onder leiding van Die Bevelvoerder-in-Beheer met die flikkerende liggies, BIB 2045. Gaan dit werk? Sewe biljoen mense kyk na hulle, Sewe biljoen asems optrek en net nog 45 miljoen kilometer ver om te gaan. Haar gedagtes dwaal terug na haar dierbare oupa Kobus, altyd met die getroue Boela by hom, wat haar soveel van die mooi dinge van die verlede kon leer. “Lydia ek wil vir jou woordjies van die ou mense leer. Die mooiste van almal, die Sothos se ʼnaledi’ vir die môrester. Die oudste dogter kry altyd die naam.” Dan wys oupa vir haar die helder planeet in die ooste en dit word vir haar iets van hoe die hemel moet wees. Heidi word nukkerig, Jacques mompel in Frans en John dink weer hy weet alles. Almal weet dat Igor wodka teen die reëls saam gebring het. Die suurstofmeter wys ʼn wanbalans. Dit is die een ding wat nie verkeerd mag gaan nie ... “Weet julle hiervan?" vra Lydia tydens ete. Almal kyk haar aan asof sy van Mars kom en wonder of sy mooi verstaan, maar toe hulle slaap werk Lydia deur die stelsels, sy gesels met BIB en hy is ewe bekommerd. “Lydia, ek dink hier is iemand wat besig is om iets te breek." “Hoekom dan, BIB?” vra sy.
“As ons daar aan kom, julle almal die glorie gaan deel ... ” “Ja, maar dit is mos soos dit moes wees!” “Ek ken mense, dit vat ʼn nie-mens om julle te verstaan," sê BIB terwyl sy liggies opgewonde flikker, “Een van julle wil alleen daar afklim ...” Lydia word baie bang en besef BIB is reg. Hier is ’n moordenaar aan boord maar wie? Die arrogante Jacques, die dikbek John of die vloekende Igor? Dit kan tog nie die blonde Heidi of die dierbare Gabriella wees nie? Lydia en BIB besluit om saam te werk. Daar is min tyd, net twintig miljoen oor voor hulle daarkom. Lydia wag tot elkeen slaap en soek rond. Sy hou haar suurstof silinder reg. Sy snak na haar asem, suig aan die pypie, Jacques, Igor, John en Heidi lê in hul banke, leweloos ... waar is Gabriella? Die badkamer deur is toe. “Gabriella is jy daar? Gabriella is jy ok? Gabriella!” Die deur swaai oop. “Non si muovono! Staan stil! Ek gaan jou vrek maak as jy naby my kom!” Die vuurtong spat, Lydia duik agter die kas in. “Gabriella!” skree BIB, “ek gee jou 5 sekondes om jou wapen neer te sit!” “BIB, ek is reg vir jou! Ek gaan net jou krag afsit, Lydia vrek skiet en al die eer is myne ... die geskiedenis behoort aan my!” Sy verstar in haar spore, sy sluk paar keer en val op die vloer, ʼn donker rooi vlek sprei op die mat. “Mi dispiace, ek is so jammer Gabriella, maar ek moes dit doen,” stotter BIB 2045 en sy liggies verdof, “ek kon nie anders nie ... ek huil saam met jou mamma in Milaan ...”
Die landing is suksesvol op die suidelike kontinent van Venus wat vernoem is na
die godin van liefde, Aphrodite. “BIB, kyk net hoe mooi is dit!” “Lydia, jy is ʼn wonder mens, jy verdien dit,” sê BIB en sy liggies nou 'n sagte groen, “Jy gee net liefde en verdien wat nou gaan gebeur ... hier die oomblik is joue, gaan doen wat jy moet doen, gaan staan op Aphrodite!" "Dankie BIB, dit is alles net aan jou te danke." "En Lydia ... onthou wat julle skrywer, Langenhoven, in julle pragtige taal gesê het, ‘Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.’ Selfs vir my met my blik gesig was jy ook lief ...”
Lydia klim stadig teen die leer af, die hitte intens, dit is 460 grade buite, sy gee een klein treetjie maar 'n sprong vir die mensdom, sy gaan op haar knieë, sewe biljoen kykers volg elke beweging. Sy plant ʼn klein Mopaniehout kruisie en begrawe die botteltjie as in die warm sand.
“Oupa Kobus: 23/10/1961 – 7/7/2044 Boela: 2034 - 7/7/2044”
Lydia snik, “Oupa en Boela, julle moet sag rus hier, hier jy waar jy altyd wou wees, vir wat jy die meeste bewonder het, hier op Naledi ...”
Idees gebou op Arthur C Clarke se “The Sentinel”, BIB 2045 baseer op HAL 2000 in die boek en die Mars landing van Curiosity.
6 Dit kom van vêr af
Sara droog die koppie af, sit dit op die kombuistafel neer en hang die vadoek netjies aan die hakkie teen die muur. Sy kyk af op Kasper wat teen haar been skuur en Boela wat in sy mandjie opgekrul lê, kreun en sy stertjie vir laas swaai. Annette se bottel is vol nag melkies en dit is tyd om te gaan inkruip. Na amper ʼn jaar na Pieter se dood en kon sy hier die Wildtuin vrede gevind. Die renosters haar kinders, haar stetoskoop haar wapen en nou dat ons weet hoe om gif in die horings te sit, is alles soveel makliker. Iets van Pieter se wrede dood is gewreek. Sy kyk deur die venster, die sekelmaan sak oor die horison, dis amper pikdonker maar tog nie, hoekom die snaakse blou skynsel? Sy pak haar ondersoektas reg vir môre se werk met die baba renostertjies, loer gou in by slapende dogtertjie en plant ʼn ligte soentjie op haar voorkoppie. Sy stap na haar kamer toe om te gaan inkruip. Sy dommel net in toe ... ʼn Harde slag, mans stemme, hulle is in haar huis! Drie klein geel mannetjies storm haar kamer binne, in elkeen se hand ʼn outomatiese pistool en een hou die huilende Annette vas, “Whele are ze holns? Whele? Talk or we shoot ze baby and then you!” Hulle gryp haar en sleep haar uit tot op die werf. Sara dink aan net een ding, baba Annette ... Hy gee haar 'n wrede klap, “Whele are ze holns!!" Boela storm blaffend op hulle af, die pistool vuur ʼn sarsie en hy verslap in ʼn poel bloed. “What a beaut!” roep die spleet oog man, “We might as well have some fun while she is still living!” Hy begin sy klere uittrek en die ander twee lag hard en wreed. Hy stap stadig na
haar toe en grynslag, sy is verlam van vrees.
Skielik is alles helder verlig, pers blou. Oor die werf hang ʼn vreemde voorwerp, dit sak tot op die grond en ʼn deur gaan stadig oop. Die mans en Sara staan versteen. ʼn Smarag groen wese swymel tot by hulle, met een klap slaan dit al drie dat hul hoog die lug in trek om honderde meter verder teen die klip koppie vermink te word. Dit buk af, tel Annette op, hou haar styf vas totdat sy ophou huil. Op haar mondjie is nou die mooiste glimlaggie. Dit kom tot by Sara, gee Annette vir haar en prewel in metaalagtige Afrikaans, “Dokter Sara, ek sal altyd na jou en Annette kyk, jy hoef nooit ooit weer bang te wees nie.” Sy kyk af, diep in enkele groot pers oog. 'n Blink traan loop teen die groen verrimpelde wang af ...
Die vaartuig skuif die hemel in en vêr weg, een vir een, doof die sterre uit...
Inspirasie: Arthur C Clarke en Jeffrey Archer.
7 Ek word ook oud
Dit was die klank van gebreekte glas wat haar laat om kyk, die skerwe spat op die betonpaadjie agter haar, water spuit is alle rigtings. "Wat nou?" Breggie, die mooi klein donker koppie, die slim outjie wat altyd so entjie weg van almal is. Die seuns praat agter hul hande en sy kon net wonder, en ook soms hoop ... Nou na soveel jare kyk sy terug en weet, dit is nou maar hoe die lewe werk. Breggie het lankal haar besluite finaal geneem, "Die lewe is goed soos dit is." Hier in haar praktyk, die tiental klerke wat vir haar werk en by haar leer as die ouditeure van môre. Die hoekkantoor, die mooi Jaguar in die parkeerplek, is dit die lewe? Breggie kan alles doen, solank dit kop dinge is, handewerk los sy maar vir ander, kan nie eens koekies bak nie! Haar meenthuis op die golfbaan, met Sarel die Yorkie wat haar lewe opvrolik en ou Kasper die gemmer mannetjie wat elke rot nog laat skarrel het. Die twee snags weerskante haar op die groot dubbelbed. Die jaarlikse ski-kuier in Europa by ou vriende. Die lewe is mooi, gerieflik en ... vervelig.
Toe gebeur dit ... die geyser bars en water stroom deur die huis. Elektro-Sjirurge weer die antwoord. Dit kos haar ʼn oggend lank se wag en die vloere probeer skoon maak, “Wanneer kom die mense dan tog, ek het nie nou krag vir ʼn spul elektrisiëns nie!” Uiteindelik stop die wit paneelwa voor haar deur, sy maak oop, en daar staan hy, mooi op sy oorpak vasgespeld, “Simon” “Ag nee, net nie dit nie!” dink sy.
“Dame, u het geskakel,” sê hy in mooi Tswana-Afrikaans. "Ons sal u dak moet af haal en die ou geyser uitkry. My kollega is nou hier om te help.” Nog ʼn paneelwa stop, sy kyk nie eens op nie. Hulle kap en timmer en raas vir ure. “Kry tog net klaar,” verwens sy die spul. Daar is ʼn klop aan die deur. Daar staan hy, blonde hare, amper net so kort soos sy met diep donker blou oë. “Dame, ons is klaar, sal u asseblief toets en as enigiets verkeerd is vir ons laat weet?” Op sy blou hemp die bordjie ... “Fanie” Sy stap nader, haar voet haak aan die drumpel, sy val en hy vang haar, sy kyk diep in sy oë. Niks was ooit weer dieselfde nie ...
8 Vat jou goed en trek, Jan Ferreira!
Hy lag weer in haar gesig … want ou hoepelbeen Jannie voel mos vere vir almal. “Jannie," smeek Lydia, “Hoekom het jy dit gedoen?” “Wat gedoen? Vertel my!” “Jy het die brulpadda in my boekesak gesit, ek weet dis jy!” “Issie, hoekom sal ek dit dan doen?” “Jy het net laas week in Susan se boeketas ʼn koringkriek gesit, Pieter het jou gesien en met sy foon afgeneem en die hele skool praat nou daarvan, whêê!” “Issie, jy weet hoe is Pieter, hy konkel mos met fotos, almal weet dit tog!" “Jannie … kyk my diep in my oë," Lydia haal haar goue raam brilletjie af en stap stadig nader op haar dik beentjies om te probeer fokus, “Jannie, ek praat met jou!” “Lydia, dit was ek ... ek-ek is so jammer ...” “Ek gaan vir Meneer vertel!” “Lydia en dan? Wat word dan van my?” Lydie sien voor haar die outjie, sy verslete skoene, die krom beentjie en die bewende onderlippie, die traantjies loop oor haar wange. Sy stap nader. En daar agter die Kareeboom, net langs die biblioteek, kry Jannie Ferreira en Lydia Fouche die wonderlikste geskenk ... hul eerste soen!
Met erkenning aan Maroela Media se artikel oor vat-jou-goed-entrek-ferreira.
9 My Hartjie, my Liefie
“My hartjie, my liefie, die son sak weg, daar onder by die blou berge ...” Lydia kyk uit oor die vaal Karoo … na Frankieskop op die horison. Haar kierie langs haar voete by ou Boela. Die getroue dier het weer saam die koppie agter die opstal moes uitklim en hy sug diep. Sy dink ver terug, skaars dertien en in die kafee, toe staan hy net daar. “Is jy die nuwe meisie in ons skool?” Sy kyk op van die pakkie tjips en voor haar die blonde outjie. Sy kyk na haar voete en hou haar hand op haar wang toe sy die warmte voel. “…ja …” “En wat is jou naam? Myne is Pieter Pampoen en ek is tog al in graad 10!” “ … uh .. uh, ek is Lydia.” “En jou bynaam?” “Nee ek het nie een nie. In my ou skool was dit verbied.” “Hier werk dit anders, jy is van vandag af ou Lydia Geellokkies!” Lydia bloos van kop tot toon en stap vinnig weg.
Maandag in die saal opening voel sy ʼn ligte stampie net toe hulle moet gaan sit, sy kyk om, maar hy kyk anderpad. “Lydia, wat is dit met jou en daai pampoen outjie?” wil Sara Skinderbekkie later weet. “Niks! En los my uit!”
“Hulle sê as iemand jou opruk is daar mos altyd waarheid in die storie!” Lydia loop weg en gaan kruip weg agter haar boeke in haar kamer, “ek wens ek kan doodgaan!”
Matriekpunte op die bord, Lydia spog met sewe uit sewe en het die beurs van die mediese skool lankal in haar sak. Almal wens geluk, en gaan vir die partytjie. Sy bly alleen agter, alweer, en stap stadig huis toe. Net toe sy om die draai van Bothastraat stap, “Lydia, kan ek met jou praat?” Sy kyk om, Pieter staan voor haar, sy bruin uniform, donkerrooi beret en die twee strepe op die mou. “Ek het sewedae pas, ek moet met jou praat …” “Lydia, al die jare dink ek net aan jou. As ek terug is, nog net ʼn jaar, kan ek vir jou kom kuier?” “Pieter … ek het nie woorde nie, ek met my dik beentjies en al? Hoekom ek?” “Jy is al wat ek altyd aan dink, ek moet by jou wees, wag vir my!” Hy bly lank stil, kyk diep in haar oë, "ek het vir jou ʼn briefie gebring, sal jy dit lees as ek weg is?"
Lydia trek haar wit jas aan want dit is chemie prakties vandag. By die voordeur se bord is die telegramme vasgesteek, “Mej Lydia Fouche, Heemstede Koshuis, Stellenbosch.” Sy maak dit versigtig oop: “U is as naasbestaande geregistreer. Vermis iewers aan die grens: 672543167BT Korporaal Pieter Johannes Louw …”
Die laaste pasiënt gesien, sy sluit die spreekkamer en stap huis toe. Sy krap Boela se ore en hy kreun van plesier, sy vou die vergeelde briefie vir die duisendste keer oop, sy lag weer terwyl die trane oor haar wange loop,
“ … en ek wil, ek wil, ek wil met my Lydia gaan vry; Sy is so mooi en so liefies vir my, daar onder by die blou berge …”
Erkenning aan komponis, digter en verwerker hiervan, my ou wiskunde professor, Gawie Cillie.
10 Skoppensboer
Weet jy waar is Daggafontein? Kom laat ek nou vir jou bietjie vertel. Doer ver in die Noordweste halfpad tussen Kenhardt en Carnarvon. Die ooms maak dit mos net nie, die Gunston en die Merino boudvleis eis vroeg hul sy tol en dan bly net die tannies oor. Hier rond, as jy lus is vir groente, slag jy gou ʼn vark! “Sara, deel vir ons,” sê Helena terwyl sy nog ʼn sluk Klippies en Coke neem. Tannie Annie bekyk die spulletjie deur haar derde glas K&C terwyl Lydia met haar tone deur Boela se nekhare vroetel. Boela kreun van die lekkerte en strek homself lank uit. Kasper weer lê sommer soos altyd tussen die munte en kaarte en spin saggies. Sara sit die twintigste kaart neer. “Reg! Die eerste bod is op jou, Annie.” Annie skuif breed en moeisaam rond op haar stoel, haal diep asem en die eerste vyf rand val op die tafel! Hier speel ons groot en vyf rand munte die heersende wisselkoers. En toe ... geluidloos met ʼn stadige sirkelbeweging kom dit te lande net langs die hoenderhok, so stil dat selfs die ou rooi haan net sy kop skud. Bontrok maak net haar een oog oop en weer toe, jy moet verstaan dis darem al laterig. Binne gaan dit te jolig en die K&C praat al harder en vinniger.
Die reuse pers Varadox swymel nader, stop ʼn oomblik om die regte taal op sy ruimte kommunikasie toestel te kies en sleep doelgerig nader. Hy kyk oor die oop bodeur en prewel in metaalagtige Afrikaans-Nederlands, “En wat gaan hier aan!!?" Die dames vat elkeen nog ʼn goeie hap uit die melktert, sluk dit af met K&C en kyk gesteurd op na die ronde gevreet met die groot pers oog in die middel. “Wat is jou storie jou lelike ding?” vra Sara, “kan jy nie sien ons is besig nie? Gaan vlieg terug in jou moer in, hoor jy my?”
Jy moet verstaan die heelal vrees hom en sy mede Marsgenote. Jy praat net nie so met hulle nie. Varadox skop die onderdeur aan vlarde, die hout stukke spat in vele rigtings. Die tannies kyk nie eens op van hul kaarte nie en Varadox begin sy humeur verloor. Sy groot pers oog blits van woede en hy haal stadig maar seker sy Super 8 Laser wapen uit, knip die veiligheidsknip oop. Hy haal oor, die vuurtong gemik op die plooi tussen die arme Boela se ore ... Boela gee ʼn snork. “Julle bliksems!” gil Annie, “ek het hom! Skoppensboer straight flush! Betaal ouens, betaal!” Sy staan triomfantlik op, neem ʼn diep sluk K&C, vat die koekroller stewig om op die tafel te slaan en so haar oorwinning te vier. Sy haal oor en agter haar rug slaan sy Varadox tussen sy twee bloedrooi lang punt ore, hy rol bewusteloos by die deur uit. Die laser wapen lê eenkant, hy maak sy oog oop. Boela staan met al vier voete bo-op hom, al wat Varadox sien is daardie vreeslike slagtande. “Helllp ... helppp ... !” prewel die arme ou vir laas.
Geinspireer deur Eugene Marais: “Die een wat deur die nag, ons pret beloer, en laaste lag is Skoppensboer.”
11 Die vlug van ʼn arend
“As ek tog maar net ʼn arend was, ek jou op my vlerk kon laai ... en ons sal vlieg op en op … ” Lydia sug diep, haar sakdoekie is onder die suurstofmasker. Sy kyk ver, ver daar na die die blou planeet op die rooi horison. “Hoekom het ek my hierheen na die Rooi Planeet begeef?” “Ons gaan dit nie maak nie! Die suurstof is hopeloos te min, als het uitgelek!" skree Sergei in Russies. “Sergei, wees kalm, ons het ʼn noodvoorraad.” “Ja, maar ...” Hy gee weer sy stywe amper huppel lopie met die linker arm wat voor hom swaai. Sy oë op net een plek, John. Lydia kyk weer na die blou planeet, sy verlang so veel. “Wat maak Pieter vandag?” Sy kyk deur die teleskoop, kan amper die wit pole sien en die groot oseane, maar dalk verbeel sy haar. Dit ruk aan haar hart. “Wat sit jy net weer daar!” gil Gabriella in Italiaans, “ek moet al die werk doen, en jy sit en tuur net in die verte terwyl John sy oë nie van jou kan af hou nie!” “Gabriella, asseblief. Alles is gedoen, die kortsluiting gekeer, wat meer kan ek doen?” “Ja, maar jy is die elektronikus hier, word wakker man!” spoeg sy die woorde. Hier gaan ons almal sterf, of die suurstof gaan opraak, of Gabriella gaan ons vermoor ... John eerste omdat hy haar ignoreer. Wat sou Pieter gedoen het?
“Help!!!” gil Gabriella. Lydia hardloop nader, uit die kombuiskajuit borrel die rook oor die stofferige vlakte ... John en Sergei kom uit die slaapkajuit. “Wat gaan aan?” Toe gebeur dit, die ontploffing, die grond onder hulle skud en die hele kombuis, al die kos en al die water verdamp in die lug. “Ons gaan sterf!” huil Gabriella. “Hoe nou?” John staan verslae en tuur na die horison. Lydie kyk ver na die blou planeet. “Waar sal ons hulp vandaan kom? Waar is Pieter nou? Hoekom is hy weg?” “Ouens kom hier!” roep sy. ”Dit help nie dat ons baklei en skuld gee nie. Ons kan dit red." John en Sergei ek stel voor julle tel al die stukkies op wat ons nog kan eet. Ek en Gabriella sal kyk wat ons kan regmaak en dadelik hulp aanvra.” Gabriella se oë versag, “Dink jy regtig ons gaan dit maak?” Lydia vou haar arms om haar. “Moenie huil nie, Gabriella, ek en jy gaan dit doen. Ek is nie kwaad vir jou nie, en ek voel niks vir John nie, Pieter is al wat ek het en toe moes hy terug gaan.” Die groep werk en werk volgens hul noodplanne, Lydia sien die hoop in hul oë maar glo self nie regtig meer nie. Die rooi landskap strek voor haar uit, en toe, “verbeel ek my?” Ver, ver weg net langs die blou planeet is ʼn kolletjie, dit word groter en groter ... dit hang bo hulle en stadig daal dit neer. Die luik gaan oop en ʼn persoon stap af. “Pieter!!” Sy huil en lag tegelyk. Pieter maak stadig sy dik handskoen oop, “Lydia ek het kos en water gebring, alles sal reg wees, ons gaan terug, jy is myne en kyk net wat het ek vir jou
gebring!”
Ai toggie, die wetenskaplike in hom neem al weer oor want toe sy na die voorwerpie in sy handskoen kyk en hy druk haar styf vas, sy huil en lag ... “soos jy kan sien kom metaal van Wes Driefontein, Carletonville en die kristal al die pad van Wesselton, Kimberley!”
Erkenning aan Randall Wicomb en die anonieme digter vir die lied, “As ek tog maar net ʼn arend was."
12 Die hoogste Tol
Die Mazdatjie se gladde bande gee ʼn laaste sug, die verroeste deure swaai oop en Professor Barend P Malan klim verwilder uit. Sy oë dartel oor die horison en kom tot stilstand op die eensame graf op die bergie. Dis waar alles begin het ... Na sy proefskrif, sy spore in Aberdeen en Edinburg toe deur die loopgrawe van Magersfontein tot by hierdie eensame graf. Min het hy toe geweet wat dit hom nou gaan kos. Toe daardie naamlose oproep, die swaar Skotse aksent oor die landlyn, “Are you professor Malan?" “Ja ...?” antwoord Barend nou baie bang. “I am Andrew Wauchope the VI th. How dare do to this to our family? Meet me in Matjiesfontein midnight on the 4th!” Barend weet presies waarom dit gaan en hy weet dat hy daar is geen omdraai kans nie. Hy klim in sy blinknuwe Jaguar XFR, ry Mooikloof toe, pak net die nodige en los nie eens ’n brief nie. Hy huur die Mazda by Danville Auto Hire, betaal R2000 kontant, los die Jaguar se deur oop met die sleutels op die bestuursitplek en ry die nag in. Sy selfoon lui aanmekaar, Annemarie is rasend van bekommernis, hy gooi dit in die Vaalrivier. Deur Kroonstad waar sy ou vriend Madefu woon, oor die Sandrivier en hy dink aan die dierbare Adele en ou Boela, deur Bloemfontein waar ou Douwtjie se lig nog skyn, sy doen seker nagskof? Oor die Oranje en deur Beaufort. Op Laingsburg gooi hy brandstof in. Hy word baie bang, dis nog net 45 kilometer. Reeds elf uur die nag, die sekelmaan hang helder oor die Swartberg. Barend trek af van die N1. Hy kruip deur die draad en gaan sluipend van klip tot klip tot hy
die graf mooi sien. Doodse stilte. Hy weet daar is geen omdraai kans meer nie. Hy stap vinnig en doelgerig tot by die graf. Skielik is daar beweging, op die rand van die graf sit ʼn man, ʼn dwerg met kort bene en ʼn dik kop. Hy kyk op, “You came to give me my ultimate revenge ... !” Die swaar Skotse aksent, “My great grandpa died in this blasted country and you and all you fucking Boers made a mockery of us! I have nothing left, just shame upon shame, tonight you will die and I will bury you in this grave!” Die dolk glim in die maanlig, die Luger in sy ander hand en die dwerg strompel op Barend af. Barend val oor sy eie voete, daar is ʼn klip in sy hand, met byna bomenslike krag gooi hy en tref die dwerg teen sy voorkop. Bloed en harsings spat oor hom en hy sak op sy knieë neer, hy prewel vir laas, "you bastard ...!!" Barend moet vlug en vlug, hy hardloop tot by die Mazda, jaag tot by die stasie, kyk verlaas na die Oranje Blanje Blou op die ou hotel. Die ligte van die Trans Karoo glim helder op die blink spore en sy die wiele klop oor die laste. Barend gaan lê op sy maag op die spoor. Hy hou sy oë styf toe, sy kop in sy arms, hy ruk van vrees en hy voel vir laas die verskriklike pyn toe sy liggaam in drie stukke skeur ...
Generaal Andrew Gilbert Wauchope, sneuwel tydens die Slag van Magersfontein op 11 Desember 1899. Oom Koos de la Rey het weer die sy hoogste tol ge-eis. Sy grafsteen word verkeerdelik op Matjiesfontein afgelaai. Die briljantste rolprent, "Verraaiers" en onlangse besoeke aan Magersfontein en Matjiesfontein is my inspirasie.
13 Dit kom met die Sekelmaan
’n Hand skuif die gordyn opsy en ’n man se kop en skouers kom by die luikgat uit ... “Wat nou?” skree oom Koos, sy mond hang wawyd oop as hy na die vreemde voorwerp kyk. Sy glas Klippies en Coke lê in skerwe langs sy voete. “Oubaas,” blaf Boela met sy dik stert tussen sy bene ingetrek, “Oubaas wat is dit die?” “Boela, ek weet nie, maar ons het groot moeilikheid!” Tannie Sannie kom by die agterdeur uit, haar wit voorskoot waai in die wind, “Koos wat gaan nou hier aan?” Hulle staar na die figuur wat stadig by die leer afklim ... Dit swymel tot by hulle en vra, “Thkuhyu hejkahj rtenbd nierb?” Oom Koos dink lank en diep en antwoord, “Aai cennot understend ju so well, traai agen?” Die figuur tel sy lang wit jas op en begin aan ’n kissie stel, “O julle is Afrikaans! Dis die eerste keer wat ek dit kan praat! Lekkerr!” “My naam is Loeloeraai al die pad van Venus, aangename kennis!” en steek sy een poot met die twee kloue uit om Koos te groet. Oom Koos deins terug, maar onthou hoe sy ma hom geleer, jy groet altyd ’n vreemde man, stadig steek hy sy regterhand met die geel Gunston vingers uit. Hy gril toe hy die yskoue vingers voel ... “Koos wat doen ons nou?” vra Tannie Sannie benoud. “Ek weet nie San!” “Dalk vir sersant en dominee bel?” “Ja, dis al raad wat ek het, hulle sal dalk weet wat om te doen.” Tannie Sannie draf huis toe en draai die slinger. Soos een man tel al vyftien op
die partylyn hul fone op en onthou weer om ’n sakdoek oor dit te hou sodat niemand hul asems moet hoor nie. “Sentrale, nommer vier asseblief, jy moet dominee nou vir my kry!” “Tannie, dominee is nou net by ou Piet hulle weg en hy sal seker eers vyf uur op die dorp aankom.” antwoord ou Koot op die skakelbord. “Nou kry dan vir my vir sersant!” “Pirrr, pirrr … puuuurr, puuurrr,” lui sersant se kode. “Hallo? Dis sersant Jan wat praat.” “Sersant! Dis Sannie, hier is groot moeilikheid en jy moet dadelik kom, bring jou vangwa en Sarel en Alfons saam!” Net daar gaan die lyn dood. “Sentrale? sentrale ...?” Tannie Sannie loer bang deur die venster ... daar staan Koos en Loeloeraai elkeen met ’n glas Klippies en Coke en Koos skink nog ’n dubbel vir elk! Wat dan nou? Tannie Sannie sit bang en wag nog ’n hele uur, die K&C vloei vrylik daar buite langs die vlieënde piering. En toe, toe uiteindelik, daar kom die stofwolk! Sersant en sy manne is op pad, “dankie tog!” Maar oo wee, stof op stof en almal op die partylyn is ook op pad! Ford bakkies vol Bloedsappe en Chevs met al die Natte. Hier kom groot moeilikheid! Die voertuie stop, die Bloedsappe staan bang in ’n groep en die Natte ewe so. Hulle gluur vir mekaar en fluister soos altyd, “Dis weer alles julle skuld!” Sersant haal sy 9 mil oor, Sarel en Alfons ook en stadig stap hulle bang en krom gebuig nader na Loeloeraai en Koos. Die toeskouers kruip agter die bonnets van die bakkies in en loer versigtig bo-oor. Tannie Sannie knyp haar oë styf toe ... sy bewe van vrees. Toe gebeur dit ... Loeloeraai kyk op na alles, dit swymel stadig al nader met sy
super infrarooi dubbeldoor laserwapen in sy linkerklou. Sy regterklou dra versigtig die glas K&C. Die groep deins terug, Sersant en sy manne kom in die gevegsposisie. Loeloeraai lig sy vyfde glas hoog op en skree met 'n sopraan stem in metaalagtige Afrikaans-Nederlands, “Klippies en Coke is koning!!! Long live the king!”
Geinspireer deur CJ Langenhoven se wonder storie oor Herrie die olifant, en die wese van Venus wat alles kom omkrap het, ou Loeloeraai. Die openingssin is uit die boek geneem.
14 Beskermengel
Lara sit by haar lessenaar, sy skryf aan haar roman en die mooiste tonele vloei uit haar sleutelbord. Dis al laat in die nag en almal slaap al, die glasie Old Brown langs die rekenaarmuis en dis nou eers inspirasie! Die sjerrie maak sulke vreemde brandertjies, "Aag wat, verbeel my seker ..." Toe saggies, amper soos 'n fluistering in die wind, “Lara, Lara … kom hier, kom gou!” “Boela, ek dink ek hoor iets, dalk moet ons tog gaan kyk. Boela kom saam, ek is bang om alleen te gaan.” Boela kyk op, rek himself uit, sy stert staan pen orent en hy gaan staan by die deur. Lara maak versigtig oop en loer deur die veiligheidshek na die straat. Linden is doodstil met ‘n vreemde rooi vol maan wat laag oor Krugersdorp hang. Sy hoor weer die fluisterstemmetjie, “Lara … Lara ...” “Wie is daar?” “Lara dis ek …” "Wie is jy ?” “Kom tuin toe ek wag vir jou …” Lara vat Boela aan sy halsband en sluit die hek versigtig oop. Boela se ore nou plat getrek, en sy nekhare regop. Hy sê, ”Knooorrr” “Kom Boela.” Die twee stap versigtig af by die trappe reg om weg te hardloop as dit nodig sal wees. “Lara ... Lara …”
Die stem kom dan uit die Protea bos! Lara en Boela stap stadig nader, daar is dan niks nie net die struik voor hulle? Boele trek sy stert in, hy is nou baie bang en tel sy regter voorvoet op. Hy snuif en kyk stip na die bos. Lara gaan op haar kniee, sy lig met die flits tussen die takkies, daar is dan niks, “Wat nou Boela?” “Lara, ek is hier, sien jy my dan nie?” “Wie is jy? Waar is jy?” Hulle stap om die struik lig oral in, daar is dan niks … en net toe gebeur dit! Die aarde ruk en oral rammel dit! Al die gaan die ligte af en mense hardloop in die straat. Iets vreesliks het gebeur! Koos, die buurman, kom aan, “Lara is jy ok? Kom ons moet hardloop!” “Oom Koos wat gaan aan?" “Aardbewing en almal moet nou uit hul huise kom!” Die hele Vierdelaan staan in die middel van die straat terwyl dit om hul skud en bewe. Kleintjies klou aan hul mammas en almal huil! . Dan word dit stiller, Lara hou vir Boela styf vas. Die ligte kom weer aan. Koos wuif met sy buurtwag soeklig, “Mense, ek dink dit in nou veilig. Bly maar eers buite tot dit lig geword het.” Die volmaan gaan onder en die eerste strale van die nuwe dag verskyn. Lara en Boela stap bang in haar huis, sy loop na haar studeerkamer ... ‘n reuse dakbalk lê regoor oor haar lessenaarstoel, die OBS bottel in skerwe en haar iPad is middeldeur gebreek …. . .
Nawoord.
Die nuwe en vol maan laat die aarde onder ons met ‘n paar sentimeter daal of styg. Aardbewings en vuurspuwende berge dan meer algemeen soos met Vesuvius en Fikushima. By ons in die steenkoolmyne het die metaan gas altyd dan toegeneem. En in die Bybel, na die kruisiging het dit donker geword en toe het die tempel kleed geskeur.
15 Griekse biefstuk in vyf maklike stappe
Erkenning aan Stanley Ellin met, “Speciality of the House”
Dit is skemerdonker in Giorgio’s Steakhouse. Die kelners met strikdasse en tuxedos stap met die bottels Meerlust en skinkborde wat hulle met swier voor die gaste neersit. Buite staan net die beste uit die Duitse en Italiaanse motorstalle en die gaste het swart pakke en donker rooi dasse aan. Hier is net mans welkom … die gesprekke is gedemp terwyl hulle stadig suig aan die Montechristos, die beste wat Kuba kan bied! Die ou refrein al weer, “Ouens, ek wens Giorgio wil my ook sy kombuis wys!” “Ag wat,” sug ou Alwyn, “dit gebeur net een keer in ses maande en is net vir die uitverkorenes.” “En dan daai Griekste Biefstuk, wanneer kry ons dit weer?” vra Sagrys en sug ook diep terwyl hy genotvol aan die Pinotage snuif. Koos en Pieter teug aan die swart koffie, suig aan die sigare en voel asof hulle in die hemel is. Net toe hulle opstaan swaai die kombuis deur stadig oop en Giorgio stap nader. “Menere wat ʼn voorreg om julle hier te kon hê. Meneer Fouche, u is altyd welkom en mag nou sonder Koos kom en ook u gaste saambring.” Hy bly lank stil, daar is ʼn glimlaggie om sy mond en sy dik snor buig boontoe, “Koos, ek sal jou terug neem, maar dit is nou tyd vir jou besoek aan die kombuis wat ek so lankal belowe.” “Giorgio!! Jy is my held, ek wil dit so graag sien! Piet is dit reg so met jou?” “Ag Koos jy is my beste vriend, doen so en net môreaand is ek terug hier en ek soek jou weer hier!”
Piet staan tevrede by die voordeur en vir laas sien hy Giorgio en Koos by die kombuis instap. In Giorgio se hand blink die lang mes met die ivoor handvatsel terwyl sy regterarm gerustellend op Koos se vlesige skouers rus …
Die kombuis is leeg want die personeel is reeds huis toe. Koos lag van oor tot oor. Daar op ’n tafeltjie tussen die aronskelke staan twee glasies en ‘n duur bottel Ouzo. Giorgio skink, en “Een, twee, drie, shoot!” die twee vat een groot sluk en lag te lekker. "Koos kom ek wys jou hoe dit werk.” Hulle stap deur die potte, panne, vrieskaste en stowe. “Sjoe Giorgio, wat ‘n plek!” “Ja Koos en ‘n voorreg om gaste soos julle te kan bedien.” “Giorgio, jou vleisgeregte is uit die hemel. Hoe doen jy dit? “Kyk dit werk so, ek koop die hele karkas en dan doen ons die snitte hier volgens ons plan vir die aand. Kan ek jou wys hoe dit werk?” Koos sluk nog ‘n hele Ouzo, sy kop draai al meer, “Ja asseblief tog!” "Sien jy die tafel? Nou kom lê nou op dit!” “Jou ou stoutert, rêrig?” “Ja maar jy sal jou klere moet uitrek.” Nou raak dit baie snaaks, daar lê die hele Koos op die blink tafel sonder ‘n draad aan! “Ek sal jou moet vasbind want jy mag nie roer nie.” Met ‘n dik tou knoop hy Koos se hande en voete vas. “Nog ‘n dop Koos?” “Jaaa! Moenie eers vra nie!” Giorgio het ‘n dik pen in sy hand. Hy teken strepe op Koos se boud en skryf, “Lendestuk.” Koos skater soos hy lag! Giorgio gaan verder met, “dikrib”, “sirloin” en “rump.” “Koos lê nou doodstil en maak jou oë toe." Hy neem die lang mes en met een
magtige beweging sny hy ‘n hele liggaamsdeel af! Koos brul van die pyn en hy ruk aan die toue, “Giorgio!!” “Dit kan geen mens eet nie, sies! Gelukkig is my kat baie lief hiervoor.” Hy sit dit in ‘n gouebakkie gemerk, “Kasper.” Koos ruk en gil terwyl die bloed spuit. Giorgio begin eers met sy bobeen spier toe die kuite, die stukke word netjies in goue bakkies gepak. Net voor die genadige donkerte toesak steek hy die lang mens in Koos se groot maag …
Die sosiale media gons soos die Tweet trek. Van Wonderboom tot Waltloo en veral Waterkloof, van Moreleta tot Mooikloof en Elarduspark tot Eldoraine trek die goeie nuus. “Daar sal vanaand Griekse Biefstuk wees. Net twintig word toegelaat volgens die hoogste bod wat ons ontvang, plaas u bod op ons webwerf. En … die porsies sal vanaand aansienlik groter wees …
.
16 Sweef soos ʼn Arend
“Is jy reg Pieter? Die weer is mooi en vandag kan ons hard werk en dit rustig neem. Jy werk en ek rus!” “Reg so Kaptein ... kyk maar net mooi as ons weg trek, maar ek kom al goed reg!” Koos sit solank die jongste Deon Meyer op sy skoot en reg om al die pad na Lusaka te lees en te geniet. Die vier masjiene brul gerustellend en die geur van kragparaffien hang dofweg in die lug toe Pieter die stange vorentoe skuif ... vinnig skuif Oliver Tambo weg agter hulle soos 'n dowwe wolk in die wind ... “Lusaka hier kom ons!”
Lydia maak haar gordel los en trek die trollie uit, die vars koffie geure walm lieflik. Dit is so lekker om Kulula weer ʼn punt te wys en sy begin in Afrikaans, “Welkom dames en here op Airlink vlug SA251 na Lusaka. Ons RJ85 is die beste wat daar is, sit terug en geniet die vlug." Sy kyk na die vyftig asiers. Heel voor in 1B en 1C sit die twee groot mans. Hulle staar strak voor hul uit soos iemand sonder enige lewensdoel. Sy kyk weer na die asierslys, MK Ebrahim en SDT Mullah ... en sy wonder, vroetel in haar handsak en doen dit vinnig sonder dat hulle dit eers raaksien. Lydia bedien almal en stoot die trollie terug, “Laat ek gou hoor of Koos en Pieter dors is. Koos is seker nou al by bladsy vyftig en sal graag wil vertel wat hy gelees het." Sy stoot die deur oop … ʼn arm gryp haar en druk haar mond toe, hy slaan haar wreed, bloed spuit uit haar neus en sy spoeg haar voortande uit. Hy gooi haar bewusteloos in die paadjie en met een laaste skop breek hy twee ribbebene. Die asiers gil en gil.
Hulle storm in die kajuit en klap die deur agter hulle toe. Die RJ se neus sak en die aarde kom nader …. “Help! Help!” gil al vyftig, die dames hou hul hande voor hul oë. Lydia word rukkend wakker en strompel tot op haar knieë … Sy steier op haar voete, sy gryp die lang blink voorwerp van die trollie. Die RJ val en val, Lydia slinger vorentoe, pluk die deur oop en die vleismes sink in Ebrahim se nek, weer en weer, Mullah kyk verskrik om en dit steek diep in sy hart. Die bloed spuit oor Lydia ... Koos en Pieter staar bleek en doodstil met oop oë na niks, bloed gespat oor hul uniforms.
Susan skink 'n glasie sjerrie en skakel die nuus aan. Riaan Cruywagen is vanaand ernstig, “Goeienaand liewe kykers by SABC2 nuus … Vlug SA251 na Lusaka het spoorloos verdwyn. Familie en vriende is saam by OR Tambo Lughawe. Ons hou u op hoogte. Nou oor na die ekonomiese nuus …” “Ons het nou net ʼn flitsberig ontvang. ʼn Selfoon foto is uit die vliegtuig gestuur. Dit blyk afkomstig te wees van 'n lugwaardin, Lydia Louw. Ons hou u op hoogte.” Die foto van twee groot blas mans in die vliegtuig. “Pappa! Dis Lydia! Pappa dis my kind! Wat nou?” Jan hou sy sterk arms om haar, hy snik rukkend saam met haar.
In die stuurkajuit gryp Lydia die stuurstang, “Oscar romeo tango, this is sierra alpha two five one, come in, come in!” “Ons hoor jou Lydia!” “Dis ʼn situasie zero five, maar ek het dit in gelyk vlug.”
“Lydia, Captain Peter is hier, hy sal jou help!” “Lydia, throttle terug tot zero three, hou hom net daar, hou jou wiele in, op die laaste oomblik laat sy stert sak en trek die throttles heeltemal terug, Lydia jy kan en Lydia ... ek bid vir jou.” Die Karibadam kom nader en nader, die asiers gil, die stert sak en die water spat hoog en ver as Lydia die ʼn perfekte buik landing doen. Die reddingsbote verskyn …
17 Vang die Son
Erkenning aan James Roux en sy wonder storie, “Janneman”. Ook van Valiant Swart met sy pragtige lied, “Sonvanger”. Die woord “Hemelkind” van Fanus Rautenbach. Die Meerkat sterrewag word tans naby Carnarvon gebou.
Die groot horlosie tel "100, 99, 98 … " Die wêreld is daar, honderde kameras reg vir die groot oomblik. Almal is by die Meerkat radioteleskoopbasis en hou hul asems op. Lydia in haar ruimtepak, sy sweet in die nou ruimte en weet dat elke moontlike droom waar geword het. Pieter en die kinders, Susara en Jannie, staan met hul kameras hoog in die lug, hulle is so trots. “Mamma jy gaan dit doen!” was Susara se laaste woorde. “Mamma ek is lief vir jou, kom gou terug!” roep Jannie toe weer te hard sodat almal omkyk! Lydia wonder, “Hoekom is sy ogies so rooi vandag?” “Pieter jy moet tog dok Koos vir ons weer kyk. Ek is bekommerd oor Jannie.” “Lydia, ek sal hom môre neem. Kom jy net weg!” “Outjies, net tien dae dan is ek terug!”
Sy dink terug aan die jare opleiding, die twee doktorsgrade, hoe om haar werk te doen en ook ʼn mamma te wees. Nou die groot dag. Die presidente van die ons land, Amerika, Rusland, China is daar, maar die heerlikste was Prins William se woorde, “You will be the first person to do it again. Lydia Marais, we are so proud of you!”
Biljoene kyk na hul skerms, “ … vife, four, three, two, one, zero! … We have a lift off!” Sy weet wat om te verwag, die reuse vuurpyle ontvlam en die vaartuig skiet die hemel in.
Dit is skielik doodstil, die pragtige blou oseane onder haar sink weg en die grys maan wat nader kom. Tyd om die pak briewe te lees! “Mamma, ek is so trots op mamma. Jy is alles … Susara." Sy lees een na die ander en hou die spesiale ene vir laaste. Sy lag vir die spelfoutjies en die skewe letters, “Kyk tog of mamma vir my die son sal kan vang, daar is ʼn plekki in my kamr waar ek die son kan hang!”
Die see van kalmte onder haar, al die groen liggies brand helder en die plan werk perfek. “Meerkat Base, I am ready for landing!” Sy stryk neer skaars honderd meter van die staal struktuur. “Meerkat, this Tranquillity base, it is fifty years later and the Eagle II has landed!” Nog ’n sprong vir die mensdom en sy stap nader en kyk verwonderd na die voetspore, nou reeds dekades oud, steeds duidelik in die sand. Sy neem monsters, stel die toerusting op en dit word tyd om te gaan eet en rus. Die deur sluit en toe … etlike rooi liggies flikker verwoed. “Meerkat we have a situation zero six! Help!” Sy voer elke opdrag uit, elke stap uit die boek, maar tevergeefs. “Lydia, you are stranded. We will send the rescue craft immediately, but be ready for a twenty day delay! ... Lydia you are not alone … ” Die batterye word pap, alle kommunikasie daarmee heen. Jannie se gesiggie bly in haar gedagtes, iets is verkeerd … hoekom het sy ogies so gelyk?
Die reddingstuig kom veilig aan, die oorskakelingsproses soos beplan en Lydia vertrek. Die reuse aardbol skuif al nader, die blou oseane en die Kaapse Skiereiland nou mooier as ooit tevore. "Ek kan nie wag om hulle vas toe hou nie! Dink net hoe gaan Jannie vir my lag!" Die landing net buite Saldanha, die water spat hoog, alles oor en die sending suksesvol. Op die kaai staan duisende mense en almal juig. Heel voor Pieter en Susara. “Waar is Jannie dan?” Hul hou haar styf vas en ruk van die snikke. Pieter gee vir haar ʼn pienk koevertjie. “Lydia, sy laaste briefie voor die siekte alles oorgeneem het.” Sy lag van oor tot oor met trane oor haar wange loop, “Liewe Mamma, ek weet mamma het vir my die son gaan steel, want daar’s 'n plekki in ons tuin waar ons met die son kan speel!”
Sy staan op haar knieë en lees oor en oor die woorde op die kiaathout kruis, sy sit sag die briefie vir hom tussen dit waarvoor hy so lief was ... Bokbaaivygies ... “Liewe Jannie jy was maar net twintig, jy bring 'n lig vir die draaie op my pad, en ’n handjie vol strale vir die donker in my hart … sal jou soveel mis. Ek weet jy is nou gelukkig want jy hoort daar ... ons Hemelkind …”
18 Liewe Heksie in 2014
“Aag ja …,” sug tannie Liewe Heks. Sy tel die jare, al 81 van hulle verby toe sy as baba Levinia Liewe Heksie in Blommeland haar eerste skreetjie gegee het. Koning Rosekrans, ou Matewis kat en die Feekoningin is lankal ver weg na die Blommeland Hemel. Sy verlang soveel na hulle. Tannie Levinia Heks staan stadig op en stap rustig om haar huisie. “Miskien moet ek tog gaan kyk wat die nare gifappeltjies weer vandag gaan aanvang. Daai Kerrie en Borrie maak net altyd moeilikheid al loop al twee al met kieries!” Haar getroue ou besem staan regop geparkeer teen die muur. Met moeite klim sy op dit en kan jy dit glo, daar trek hulle! Die windjie waai deur haar kroes lokke en met haar een hand hou sy haar ou punt hoedjie styf vas en kyk na Blommeland ver onder haar. “Haai oo, wat dit is daai?” vra Levina vir haarself, want net so op die grens met Gifappeltjie land is daar ʼn reuse gat in die grond! Levinia daal af en vlieg al om dit, sy probeer inkyk, toe …skielik val sy soos ʼn baksteen in die gat in! Maatjies wat dan nou? “Wat gaan nou gebeur?” vra jy seker. Is dit die nare ou Geel Heks wat dit gedoen het? Oo, nee, laat ek nou vir jou verder vertel, tannie Levina Heks val en val en val. Sy knyp haar ogies toe van bangheid. Die besem is lankal uit haar hande geruk. “Wat nou?“ vra sy nou baie bang, voor haar daar is ʼn pragtige plek, helder ligte, rose en proteas wat blom en water wat loop.
Koning Rosekrans, ou Matewis Kat en die Feekoningin en al haar ou maatjies staan en lag vir haar. Kwaatjie Kabouter lag van oor tot oor en die koning buig diep voor haar, “Levinia Heks, welkom in die Blommeland Hemel!”
Die tyd gaan verby en hier in die Hemel is dit net te lekker. Geen naar Gifappels en die heerlikste eetgoed. Almal is vriende en Koning Rosekrans (sy regte naam is mos ou Riaan Kruiwa-stoter!) kuier van die oggend tot die aand by almal en gooi natuurlik weer sy flikkers met die Feekoningin. Ai tog! Blommie Kabouter is weer die grapkassie en almal lag te lekker vir sy stoutighede.
Maar toe gebeur iets, Koning Rosekrans en die Feekoningin het ophou om te lag ... Heksie vra toe, “U majesteite, hoekom lag julle dan nie meer nie?” “Liewe Levinia, iets slegs is aan die gebeur, maar ons sal julle vertel so gou ons meer weet.
Toe daardie dag, dit was ’n Donderdag, en toe kom Saartjie die rapportfeetjie aangevlieg, “Tannie Levinia, die koning vra dat ons almal dadelik na die paleis moet kom! Sal tannie asseblief vir Matewis en Blommie ook laat weet. Die koning wil dat ons gou daar moet wees, so sal tannie vinnig met die besem ry en hulle twee ook oplaai?” “Ek maak so Saartjie!” Levina gaan haal haar besem, trek haar mooi aan. “Blommieeee! Matewissieee? Waars julle?” Die twee stouterts kom aan gehol en spring agter Levinia op die besem en daar trek hulle! Hulle maau en lag al die pad, maar Heksie bly stil ... sy weet net iets vreesliks het gebeur.
Koning Rosekrans maak keel skoon, "liewe Blommeland engeltjies. Welkom hier by die Blommelandhemel se beraad.”
Hy bly lank stil, hy kyk na sy voete … “Ek het vandag slegte nuus. Ons is laat weet deur my vriend, daai Cruywagen ou …” Die koning sluk swaar en diep en sukkel om te praat. Die Feekoningin stap vorentoe, “Liewe maatjies, ons het gehoor dat Tannie Verna baie siek is en dit so sleg met haar gaan. Ons het toe besluit om die rapportfeetjie te stuur om vir haar blomme te neem. Julle weet dat regte mense ons mos nooit mag sien nie, so sy sal in die middel van die nag gaan. Iemand wat vinnig kan vlieg moet saam gaan om te help dra …” Die koning kyk op, hy kyk na net een en almal se ogies draai … “Levinia, ek en die koningin het besluit dat jy sal saam gaan ... ”
Daardie nag het die mooiste ding ooit gebeur … want toe tannie Verna daardie Vrydagoggend wakker word, was die heel laaste ding wat sy ooit gesien het ... 'n bos Blommeland se Hemelse Proteas …
19 Die Stoute Wolkie
Geïnspireer deur die storie, “The naughty cloud” deur Ceidrik Heward. Die Latynse woord vir ʼn witborskraai is Corvus Albus.
Die skool in Durbanville kom daardie Vrydag uit. Grethe groet vir juffrou Joanie en draf uit na mamma Wilmien toe. “Ag nee! Ons wil dan gou see toe gaan en nou reën dit al weer!” Hoog bo hulle lag ou Kosie, die stoute wolkie, te lekker. “Kyk net al die kinders is papnat en het môre almal verkoue, lekkerrr!” Hy hang rond en wonder, “Waar sal ek nou gaan moeilikheid maak? ... Bloubergstand natuurlik!” Hy dryf gou oor daar heen, die sonnetjie skyn te lekker en oral lê mense op die sand. Kosie sluk twee keer en toe gebeur dit, hy gooi ys op hulle! Haelkorreltjies net waar jy kyk en almal hardloop na hul karre toe. Die son gaan onder en Kosie kan nie meer sien wie se dag om voor sleg te maak nie. “Wag ʼn bietjie, daar is mos ’n nuwe dam gebou, ek gaan in die nag klomp water in dit gooi dat dit gaan breek!” Die volgende op die nuus in al die koerante, “Die Theewaterkloofdam het gebreek, groot skade, wat nou?” So gaan Kosie aan en aan want dis net te lekker om ander se lewens sleg te maak. Hy dryf verder en verder van die see af, tot by ʼn groot plat stuk grond. Dis bruin en lelik. “Wat kan ek nou hier doen om dit sleg te maak?” dink die ou. “Aaaak!” hoor hy. “Wie is dit?” Dis Korvie die witborskraai ... ag nee!
Maatjies as jy nou gedink het Kosie is ʼn slegte outjie, moet jy Korvie sien. Kraaie is mos al diere wat alle tale kan praat, so hy vlieg rond, luister en vertel jok stories so ver hy vlieg. Dan moet jy sy nes sien. Sommer so op ʼn paal vol blikke en papiere ander lelike goed. Korvie sit net daar en doen niks. ʼn Slegte outjie ... "Wie woon hier onder?” vra Kosie. "Dis daai ou oom Sybrandt. Ek hou niks van hom nie want hy kyk net heeldag na sy koeie.” “Koeie?” vra Kosie. “Ja! Die ene se naam is Bontrok en haar man se naam is Rommel. Lelike goed met sulke aaklige horings. Ek wens jy wil hulle bietjie skrik maak.” “Reg!” sê Kosie, en hy sak laer en laer. Hy sien die oom heen en weer loop. Bontrok en Rommel is net vel en been en die arme hoenders krap in die grond vir ʼn laaste kossie. Net toe hulle dit die minste verwag, gooi Kosie die hele plaas vol ys! Toe maak hy sy stem dik en sê, “DONNNEERRR!!!” Hy stuur een lang weerligstraal wat die oom se windpomp stukkend slaan. Toe laat los hy alles wat hy het en dis net water waar jy kyk, “Swem koeie, swem!” Hy styg op, maak ʼn plekkie vir die son om deur te skyn sodat hy lekker kan lag. Maar ... almal is op die werf, almal hardloop in sirkels, die hoenders, die koeie, die verskalfies en bulkalfies. Hulle lyk te vrolik. Net Kerneels die gemmerkat en Klara die patryshond slaap nog in die huis. Die hane kraai en oom Sybrandt staan op sy kniee, sy oë is toe en met sy hande voor sy bors kyk hy op en praat ...
Van daardie dag af is Kosie anders. Hy gooi ys op die berge sodat mense en diere kan bad en drink in die somer, hy gee sagte reën op die koringlande en op die
bossies waar die skapies wei. Kosie is ʼn ander wolk! “Hoekom?” vra jy nou. Wel, daardie dag kon Kosie oom Sybrandt se woorde hoor ...
“Liewe Jesus, dankie, dankie, dankie! Dankie vir die bulkalfie wat Bontrok gekry het, dankie vir al my mooi diere vriende en Here, dankie dat u ons plaas gered het ... dankie vir die eerste somerreën ...”
20 Katonkie leer vlieg
“Ag kom nou Kantonkie man, jy is so mooi groot en jy vlieg nou nog nie,” sê mamma, terwyl sy haar lang swart vlerke wyd uitsprei. “Ja! Ek dink ook so, ʼn witkruisarend wat so oud soos jy is moet lankal kan vlieg en help kos soek. Toe ek so oud soos jy was het ons al tot by Aasvoëlkop en terug gevlieg. Ag nee man ...” “Maar pappa en mamma, kyk net hoe hoog is ons nes teen die krans, sê nou ek val teen daardie vreeslike klippe?” “Hoe ook al, wees soet, ons moet gaan kos soek. Sit jou vlerke op jou kop as jy ou Griffa die kransaasvoël sien, onthou hy vang baba arendjies ...”
Katonkie is moedeloos en dink, “Ek is ook niks werd nie ...” Net toe gebeur dit! ʼn Donker skaduwee val op hom en hy skrik, “Dis seker Griffa!” Hy kruip diep in die nes in en hou sy koppie met sy vlerkies toe. “Hallooo, halloo!” hoor hy ʼn stem kwaak. Hy loer versigtig uit en wie is dit? ʼn Pragtige spierwit swaan! Die swaan kom sit op die rand van die nes en Katonkie sit penorent, “Sjoe, maar jy is darem pragtig, kyk net jou lang snawel en die velle tussen jou tone!” “Aangename kennis, my naam is Signus. Hoekom sit jy so alleen in jou nes?" “Oom Signus, my mamma en pappa het gaan kossies soek, maar ek is te bang om te vlieg nou spot almal mos met my. Dis sleg oom!” “Katonkie, luister nou mooi hier. Toe ek ʼn baba was het elke liewe dier kom lag. Hulle het my Ou Lelike Eendjie genoem, maar my oupa het elke dag gekom.
Oupa het dat ek my vlerkies oefen, hy het my gehelp swem en elke dag kom kyk. Ek het so hard gewerk en vandag is ek die koning van Swaneland!” “Sal oom my help, asseblief oom?” “Katonkie jy kan ook en dis hoekom swane daar is, om ander ouens te help om hul heel beste word. Kom klim nou op my rug en as ek sê ´spring!’ dan spring jy en probeer vlieg. Ek sal heeltyd onder jou wees om jou te vang as jy sou sukkel. Kom klim!” Hulle styg op en op en Kantonkie sien die pragtige vallei onder hulle. “Reg! Katonkie, spring!”
Later kom mamma en pappa terug gevlieg met die aandkossies. “Waar is Katonkie? Waar is hy? Griffa het hom gevang! Aggg Neeee!” Pappa hou haar styf vas en sy huil vreeslik want haar seuntjie is dood. Hy vou sy vlerke om haar ... toe ... daar is ʼn skaduwee, hulle kyk op ... hoog bo hulle sweef ....
Die nuwe Kroonprins van die Arendeland ...
21 En drie maal kraai die haan
“Kookerokooo!!” weergalm dit van die dak af. Roland skrik helder wakker, “Agg neee!” Die ewige Stukka het hom al weer voorgespring. Wat gaan al die ander en veral die mooie Fiona van dit dink? Die haan wat eerste kraai bly maar die ou wat sy gewig rond gooi en Stukka is nou net te erg. Die ander kyk op en Fiona skrop al heerlik met haar drie kuikens om haar, al is dit nog amper pikdonker. Ou Marra skud sy horings, “Mêêê!” Al wat nog vas aan die slaap is, is ou Bontrok. Sy is mos iedergeval te lui en enigiets te doen. Oom Madefu sal seker nou-nou kom met die dag se voer. Wollie blêr, “Waar bly die oom? Ek is nou bleddie honger!” “Ek weet nie my vrou," antwoord Marra. Stukka kom snawel orent en windlawaai by die staldeur in geloop. Hy krap paar keer op die grond en gee vir Roland ʼn lelike kyk, “Ja ou Roland, jy is weer vas aan die slaap jong!” Hy kekkel verder, “Hoe lyk dit Fiona, kom ek en jy gaan skrop bietjie in die veld. Die kuikens kan by Roland bly.” “Reg so, kom julle outjies,” roep sy die kuikens, “bly nou soet by oom Roland.” Roland kyk mismoedig na die stout kuikens, na die skape en die simpel ou Bontrok. Ai toggie ... weer nog ʼn lang dag hier op die plaas net buite die dorp
Die dag gaan verby maar iets is anders want Oom Madefu en Boela was net gou hier en toe dadelik weer weg. Hy praat iets van, “hulle tel ons.” Die son sak, almal is in die stal. Roland neem hom voor om Stukka die keer te
wen en heel eerste môreoggend met die eerste lig te kraai. “Vannag gaan ek wakker bly en met die heel eerste lig op die dak spring en kraai!” Die skape, Bontrok, Stukka en almal se ogies gaan toe en hulle slaap ... Roland stap sag tot by die deur. “Ek gaan sommer nou op die dak vlieg en dan sal ek Stukka ʼn ding of twee wys met die eerste lig!” Net toe hy by die deur kom, hoor hy mense praat. Hy dink bang, “Wat nou, is oom Madefu en Boela dan terug?” In die deur staan ʼn seun en ʼn vet meisie. Sy huil, “Eina!” Die seun lyk so bang. Hy kyk af na Roland, “waar gaan ek kos kry?” Roland draf tot by Fiona se nes kyk af in dit en kyk om na die seun. Hy kloek saggies … “Eiers! Ons het kos om te eet! Dit is ʼn wonderwerk!" en hy hou die meisie styf vas. Sy huil bitterlik … . Roland hardloop by die deur uit en vlieg tot op die dak. Dit is nog vroeg en hy maak reg vir ʼn laang nag. Geen manier hoe Stukka weer die eerste keer gaan kraai nie! Skielik gebeur dit, reg bo hom word alles helder verlig as 'n reuse ster skyn! Hy hoor iets, maar verbeel hom seker alweer, want dit klink amper soos 'n mens babatjie wat huil ... ? Hy skud sy vere reg, sy snawel wys boontoe na die pragtige ster, hy kloek paar keer en toe gebeur dit, vir drie maal doen hy dit, die lieflikste, die heel wonderlikste ooit …
“Kookerokooo ... Kookerokooo ... Kookerokooo!! "
22 Sprokie vir ʼn Woudkind
“Maar hier moet jy jou nimmer laat bind, want so lui die ou, ou sprokie, my kind. As jy geluk en vreugde wil vind, soek die neonboog se punt, volg hom elke nag langs swart riviere, en kyk nie eenmaal om. Dalk vind jy die land van blou saffiere, dalk net 'n brokkie son.” Lydia sing saggies die mooi liedjie terwyl sy lui voor haar paddastoel huisie sit met haar vlerkies ver uit gestrek. “Wat ʼn mooi dag!” sê sy vir Kasper, die ou gemmer wat spinnend langs haar slaap. Die blaartjies roer skaars en die Smaragrivier maak die mooiste kabbel geluide. “Kasper ek gaan gou by die sewe dwergies kuier en regpak. Die outjies is maar ʼn klomp mans en hul huisie nou so deurmekaar sedert Sneeuwitjie mos die brulpadda gesoen en toe met die mooi prins getroud is.” Net toe gebeur dit, “Gwaaa!!!” “Wat is dit?” Kasper spring op, sy hare staan regop op sy rug. “Het iets vreesliks gebeur? Daai klank kom dan van Ouma Fiona se huis af!” Kasper ruik in die lug en luister fyn en maau, “Jy moet gou maak, ek dink daar is groot fout by Ouma” Lydia rek haar vlerkies en begin hardloop op die aanloopbaan om op te styg, maar oo wee, sy val oor haar eie voetjies! Hoekom maatjies, hoekom juis nou? Nou weet ons, net agter die ou groot akkerboom steek daai pikswart hoed uit en Korvu die swart kraai gil, “AAAK!” “Philandria?” roep Lydia verskrik. “Die opperheks! Sy het vir ouma dood gemaak, ek weet sommer. Kasper wat nou? Gaan sy en Korvu ons ook dood maak?”
“Ha! Nou het ek julle!” Philandria ry stadig nader op haar besemstok terwyl haar lang swart kleed agter haar aansleep. Haar punt hoed met die geel sterre wieg heen en weer ... “Aaak! Aaak!” gil Korvu terwyl hy in sirkels vlieg. “Lydia, jou dom ouma, toe sy Feekoningin was, het my mos verban uit Feetjieland, wel nou is sy gevang en sal stadig, baie stadig, van honger dood gaan! Ha! Ha! Ha!” Sy kyk lank na Lydia en Kasper. “Julle twee sal darem heerlik in my groot pot kook vir Sondag se kuier saam met die hele hekse familie. Lekkerrr!!!” Lydia snik en begin bitterlik huil, “Ouma! Ouma!” Sy bewe van banggeit. Maatjies wat dan nou? Maak liewer jou ogies toe wat iets vreesliks gaan nou gebeur ... Philandria steek haar lang dik arm uit, sy gryp vir Lydia, “Het jou!” Sy stap stadig die paadjie op en sleep vir Lydia saam. Lydia skop en huil en Philandria sing heerlik, “Feetjies, feetjies almal in ʼn ry, ek gaan bak en brou en julle almal kom kry!” Net toe gebeur dit toe jy dit die minste verwag en alles daarmee heen is. Reg voor hulle in die paadjie staan ʼn leeu! “BRULLLLL!” “Maar dis dan Kasper en hy is nou so groot soos ʼn leeu?” snik Lydia. “Philandria, los daai kind of ek vreet jou lewendig op!” brul hy. Philandria laat val vir Lydia, gryp na die besem, Korvu skree benoud en hulle hardloop weg na Hekseland! Net toe hulle dink hulle kan weg kom toe hardloop Kasper hulle in en met een groot klap slaan hy vir Philandria dat sy pens en pootjies in die Smaragrivier val! Lydia maak stadig haar ogies oop, onder teen haar been skuur haar liefling katjie. Hy maau saggies, “Ek is lief vir jou Lydia, niemand sal jou seermaak nie ... en onthou altyd, jy doen alles vir die wat jy lief het ...”
Erkenning aan Koos du Plessis se Sprokie vir 'n Stadskind.
23 Ons kindervriend
“Haaaa tsjieshoe !!” hoes Rudolf nou vir die soveelste keer. “Toe nou Rudolf man,” sê Blitsie, “ons moet slaap en jy bly hoes, weet jy hoe vêr moet ons môre vlieg en as ons nie nou slaap nie gaan dit sleg wees.” “Ek kan nie help nie ouens, ek dink ek het griep,” sê Rudolf en hy kyk in die plas water voor hom, “kyk, my neus is bloedrooi van die koors!” “Ou Rudolf die rooineus takbok!” roep ou Komeet en skud die reuse horings op sy kop heen en weer, “nou het ek alles gehoor!” “Wat se lawaai is dit?” die deur gaan oop en Oom Santa stap in, sit lang wit baard nog deurmekaar geslaap, “julle ouens moet rus, ons het ʼn lang pad voor.” “Oom, oom kyk net Rudolf se neus!” gil Blitzie, “Die gloei van die koors, kyk jy kan dit van ver af sien in die nag!” “Rudolf, kom hier dat ek kyk,” sê die oom, “jong, jy is dan vuurwarm van die koors en ek dink nie jy sal kan saam gaan nie.” “Maar oom ... ek het al die jare nog voor getrek, oom asseblief ... !!" “Rudolf, jy is nie meer jonk nie en ek wil nie met jou gesondheid speel nie.” Rudolf, laat sak sy kop, die trane loop oor sy harige wange. Hy kyk hoe die oom almal inspan, hulle lag opgewonde, die slee is oorlaai met die mooiste geskenke en hy moet nou in die stal agterbly. Om oud te word is so swaar ... Die slee trek weg en almal sing, “Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer. Skenk ons ʼn helder Somerkersfees ...” Oom Santa se baard wuif in die wind. Skielik is dit doodstil, net Rudolf bly alleen oor met sy gedagtes en herinnerings van die miljoene kindertjies wie se hartjies hy kon bly maak. Hy gaan staan op sy knieë en kyk op en toe hoor hy vir laas, “Heer gebore vir ons!”
Hoog bo hom vlieg die engeltjies, spierwit klere en hulle draai in sirkels om hom terwyl Rudolf se gedagtes vervaag, hy hoor en sien nie meer nie. Stadig rol hy om en gaan lê. Hy gee ʼn laaste diep sug, terwyl die engeltjies by hom sit en sy voete vashou terwyl hulle saggies oor sy kop en horings streel.
Liewe maatjies, vra vir pappa dat hy jou om middernag Kersfees na die stoep te neem. Laat hy vir jou die Suiderkruis wys. Kyk stip en lank daarna en ek belowe jou ʼn klein rooi sterrietjie sal reg in die middel skyn ... dis die grootste kindervriend, Rudolf die rooineus takbokkie ...
Name is aangepas soos deur die eeue oue gebruik en die storie gebou op die ou liedjie van Bing Cosby. Liriek van Koos du Plessis gebruik.
24 Sak Sarel!
“Ai tog," sug ou oom Koos, “Hoe moet ek van dag daar kom?” Buite waai wind en dit is baie koud maar dit is pensioen Vrydag en daar is geen ander manier nie. Koos haal sy ou dik jas uit, knoop dit styf om hom vas, neem sy getroue ou kierie. “Mooi bly Kasper!” Kasper kyk op, gee sy gemmer stert paar lekke en kruip in hom self in. Koos strompel die paadjie af na die dorpie toe. Dit is bitter koud. Hoog bo alles is Sarel Son en Wouter Wind al weer aan die baklei, “Ek is tog sterker as jy …!” “Kyk net net daai ou man daaronder, Sarel. Kom ons kyk wie kan sy jas die gouste van hom af kry, toe man!” “Reg !” sê Sarel. “Hou my dop ek gaan sy hele jas van hom af waai. Gee my tien minute en dan kry jy weer tien minute en dan kyk ons wen die keer?” antwoord Wouter. Sarel kruip agter die wolkie weg en kyk wat Wouter gaan aanvang. Wouter trek los en hy waai storm sterk in die pad af! Oom Koos gryp na die lamppaal hou vas van vir wat dit werd is. Wouter stel sy temperatuur nog 10 grade laer en hy waai en waai! Sarel kyk van vêr agter die wolk … alles verander in hom, hy skaam hom dood oor die slegte dinge wat hy gedoen het om diertjies dood te brand en waterdammetjies op te droog ... Wouter gaan lê, “Kon dit keer nie gemaak nie, kom ou Sarel kry die ou se jas van hom af!”
Dit is doodstil, Sarel kom stadig agter die wolkie uit, saggies skyn hy op oom Koos. Oom Koos trek sy jas uit, hy rek sy arms en lag van oor tot oor. Sarel hoor van ver oom Koos se sagte stem as hy op kyk, “Dankie Here vir die lieflike Son, wat U nou vir my gegee het, dankie, dankie …”
Niks was ooit weer dieselfde nie ... Maatjies, wees altyd goed vir ander …
25 Vaderlike Raad
Idee uit die boek "Oepse Daisy" van Johan C Bakkes. Hy het sy toestemming gegee.
Dit is Donderdag middag toe Pietertjie met groot oë by die huis kom."Pa, kan pa my help asseblief?" Koos kyk gesteurd op van sy werkbank waar hy staan en skaaf en probeer om sy soveelste skewe en krom tafeltjie aan mekaar te slaan. "Wat is dit nou weer Pieter?" "Pa, die kinders praat dinge by die skool wat ek nie verstaan nie, wat is 'n Doos, Pa?" Koos sit sy gereedskap neer en bly lank stil, "waar is ma?" "Sy is nou net Pick n Pay toe en dan gaan sy na ouma en vier uur is haar hare bestelling. Sy het gesê sy sal take aways bring want dit gaan dit laat word om nog kos te kom maak." "Wat ek nou vir jou gaan vertel, vertel jy vir niemand nie hoor! As pa hier van moet hoor het ons groot moeilikheid!" "Dis reg so pa, ek sal vir niemand 'n vertel nie, pa ken my mos." "Kom saam," beveel Koos, en loop na die oorkantste muur van die garage. Daar is ou bokse, stukkende gereedskap, planke en vele ander ou vergaderde goed. "Kom help afpak!" beveel hy. Koos en Pieter pak moeisaam alles op die garage vloer, dit neem omtrent 'n driekwart uur totdat die laaste dinge oorbly. Net 'n klein houtkissie met 'n reuse slot staan nog daar.
Stadig en moeisaam kom Koos op sy knieë, haal 'n sleutelhouer uit sy agtersak en tot Pieter se verbasing sluit hy stadig dit oop. Binne in is baie ou papiere en dinge, moeisaam blaai Koos deur dit en uiteindelik kom dit te voorskyn: 'n 1975 Scope! Koos begin blaai vanaf bladsy een stadig en doelgerig tot hy uiteindelik by die centrefold uitkom. "Sien jy die girl, Pieter?" "Ja Pa," antwoord hy, nou wasbleek. ”En sien jy daai drie sterretjies?" "Ja Pa … " stotter Pietertjie. "Nou laat ek nou vir jou vertel wat, die ou wat dit daar gesit het, wel hy was 'n Doos!!"
26 Ons kan ALLES doen!
Satire
Ons is vandag, Vrydagoggend, by die AfriSake lansering. Die nuuste en blinkste uit die toonaangewende Afrifokus-Solidariteits stal.
Ons is hier in die blink nuwe teater in Lynnwood.
Ons staan by iemand wat ons ken, praat nie eintlik nie, maar die van ons wat aan die Tukkies-Sonop-old-boys-club behoort staan naby mekaar en beduie driftig terwyl ons hard praat.
Ons sprekers sit reeds op die verhoog, hoofuitvoerende beamptes van groot instellings ... wel gewese HUBs ... hulle weet alles ... hulle dra rooi dasse, wit hemde en pikswart pakke.
Ons dra Italiaanse skoene, navy blou baadjies en daar is ʼn iPhone IV in die Levi se sak. Hier is vandag meer Pringle en Jeep hemde per kop as by Angus se vorige Mighty Men byeenkoms.
Ons het hier gekom met net die beste en nuuste uit die Duitse motor stal. Die paar ouens wat nog met Prados moet ry het om die draai parkeer sodat niemand dit moet tog sien nie.
Ons woon in ʼn estate en die pad voor ons huis is ʼn boulevard of ʼn avenue.
Ons braai steeds pap en wors, maar drink nou Cabernet daarmee saam.
Ons kinders gaan skool in ʼn Kollege en ons het ons MBA in ʼn Skool gaan doen.
Ons gaan Saterdag vroeg Loftus toe om vir die skeidsregters luidkeels die reëls te gaan leer, dis krities belangrik, dis bulletjie rugby.
Ons voorouers het twee keer kaalvoet oor die Drakensberge geloop, die Engelse beveg. Almal suid van die Vaalrivier is sissies.
Ons gaan kerk toe en daar parkeer ons met een wiel op die sypaadjie, die parapleë se plek, reg voor die deur, ons is haastig het nie tyd om te mors nie. Hier is alles modern en perfek, daar is ʼn Bovertrek, die dominee staan nie meer op ʼn kansel nie en sy beeld word reusagtig agter hom vertoon, sy stem in surround sound. Terwyl hy met die Here praat skuif die orkes hul toerusting luidkeels op die verhoog rond, mense kom en gaan
Ons verwens die plakkerskamp reg langsaan, hoe durf hulle? Die regering is ook heeltemal useless deesdae.
Ons het almal Weskus eiendom, maar nie nou tyd om daar te bly nie.
Ons kan enigiets doen!
... ons linkerhande is weggesteek in die Levi se sak ... ons onderlippe bewe ...
27 Die Eindstryd
"Boys, it will be a walkover," verklaar meneer Plumtree. "We will demolish them from the word ‘Go’ Just be yourself!" Hou jou asem op! Kingsmead stadion is gepak om hulle finaal te verneder. Die ABSA Curriebeker staan blink ge-Brasso op die tafel voor die hoofpawiljoen. Vandag is mooi en niks kan in die Haaitenk verkeerd gaan nie ... absoluut niks nie. Die voorbokke, Keagan, Bismark en Patrick knik entoesiasties. Die Deep Heat is ingesmeer, die adrenalien loop hoog en vandag maak ons geskiedenis, al weer! Kasper kyk na die spul, skud sy kop en en hou sy hand voor sy mond. Hy sluip na die ander kleedkamer. Alistair staan daar amper woordeloos, “Manne ons moet dit maar vat soos dit kom, soek maar gate in hul mondering, verder weet ek regtig nie.” Daar is tye wat jy eenvoudig moet ingryp. Die ouens in die Kaap is mos sissies. Uit gesit op die Groot Trek, beide Boereoorloë en weet nie van hoe dit is om twee keer kaalvoet oor die Drakensberg te loop nie. Dit verklaar ook die haglike toestand van hul rugby. Hulle stap uit op die veld. Die reuse skare in swart en wit getooi gil luidrugtig, “Booeee! Booeee!” Die Haaie kom uit en 65 000 fanatiese ondersteuners kom op hul voete en jy kan die gejuig tot anderkant die Bluff hoor! Kasper kry vir hom ’n plek naby die middellyn. Almal sing “Nkosi” en struikel weer oor die eerste paar lyne. Boonop het die Haaie die loot gewen en kies windaf en Riaan maak reg om af te skop. Die WP ouens staan verbeeldingloos rond en lyk asof hulle klaar verloor het. Die fluitjie blaas, hy kom vorentoe met ʼn kort skoppie gemik op die voorspelers, jy sal my nie glo nie die bal trek en trek en is uit net voor die kwartlyn!
“Direkte uitskop,” sê die skeidsregter streng en Deon moet ingooi. Die reuse Anton spring en val soos ʼn sak patats! Die WP het die bal en gee uit na Gerhard, die doellyn wawyd oop ... Gouws storm kop hom af om hom uit te duik ... en val oor sy eie voete, die drie onder die pale en die telling 7-0 in die WP se guns. So gaan dit aan, die bal spring verkeerd, die Haaie val oor hul eie voete of hardloop in mekaar vas. Dis halftyd, met 19 -15 op die telbord word Kingsmead stil. John gil tevergeefs op die radio. In die hoofpawiljoen sit Maria met ʼn breë glimlag, alhoewel sy vir die gelag moet betaal het sy geen idee wat aangaan nie, hulle speel mos nie rugby in Portugal nie! Langs haar sit die agbare kabinetslid, so ʼn groot dierbare ou wat lief vir sy Stuyvesantjie is, die hou hy skelm in sy hand toe. Hy het darem self op sy dag in die Cravenweek uitgedraf. Ek meen wie gaan nou vir ʼn lid van die kabinet vertel wat hy mag doen? Die hele rustyd gekenmerk deur verslae toeskouers wat saggies vir mekaar fluister en diep slukke uit die blikkies Castle neem. Die tweede helfte breek aan. Veertig minute van marteling met die eindtelling in groot elektroniese letters: 25 – 18! Die WP dra hulself skouerhoog af. Maria gee die gesogte beker, Die minister omhels elke speler en die pawiljoen loop stil-stil leeg. Van Seepunt tot Stellenbosch, van Durbanville tot Dieprivier, van Woodstock tot Wellington, van Milnerton tot Muizenberg weergalm dit dat die kranse antwoord gee.
Die vliegtuig land Sondagoggend. Kasper is ook aanboord. Hy geniet elke oomblik toe die lughawe almal toejuig. En ... tyd om die aftog te blaas en lank te gaan rus ... Kasper sweef weer 'n keer deur Maitland se begraafplaas. Hy groet weer vir oom Adam, ou Simon, Lord Charles en verwyl ʼn tydjie by Wolraad. Elkeen wat hy kon help toe dit die nodigste was. Soos altyd staan hy heel laaste stil by die ene wat hy so graag wou help, die keer wat selfs hy misluk het.
Die blink trane loop oor sy wit wange, “Bitterbessie dagbreek, bitterbessie son ... ek is so bitterlik jammer Ingrid ...”
28 Vinniger as Arende was hulle, sterker as Leeus
“Bakboord 35 grade ... stuurboord 25 grade ...” roep luitenant Derrick Page die instruksies aan ons. In die stuurkajuit sit kaptein le Roux, silwer vlerkies op sy linker bors, wat ons almal vandag veilig ons bestemming moet uitbring. Ons is bemanningslede van 35 Eskader, SA Lugmag. Ons is nie sissies nie, ons kan enigiets doen! Elkeen hou ʼn klipbord vas waar ons die voorwerpe wat deur die luitenant vir ons uitwys word netjies nommer en klassifisseer. Die lokaliteit, hoek van Voortrekkerweg en Selbournestraat, Goodwood! Die onderwerpe geklasifisseer in terme van haar lengte, been vorm, rondings van voor en rondings van agter, blondheid of nie en natuurlik die gesiggie! Ons is op pad huis toe in ons bus na ’n lang dag van oorlogvoering op die DF Malan lughawe, Kaapstad, in ons reuse Shackleton bomwerpers. Ons is MANNE! Om hier te kom ʼn lang pad en laat ek jou bietjie vertel:
Dit is ses maande vroëer, die trein stop in Pretoria stasie, ou Brinkie klim bangbang af. Die man in blou geklee kom beleefd nader, “Meneer, is u dalk ʼn lugmag dienspligtige?” “Ja, meneer,” antwoord Brinkie. “Nou wat de fok staan jy nog hier? Ek is geen meneer nie, ek is ʼn korporaal! Kry jou donnerse gat in rat en kom in daai Bedford, en fokken gou ook!" Brinkie sleep sy bagasie agter hom aan en klim saam met nog dertig ander verwilderde agtien jariges in die Bedford. Drie maande van fisiese en emosionele hel volg. Dril en hardloop, polish ʼn spit, maar stukkie vir stukkie bou hulle selfvertoue. Brinkie is kort, klein en fiks en ideaal vir die volgende
stap, die Lugmagkollege!
“Goeie môre here, sal u asseblief u sitplekke in neem?” Hulle glo hul ore nie! Brinkie voltooi sy kursus en word uitgeplaas na 35 Eskader, DF Malan Lughawe. "Brinkie speel jy skaak?” die eerste bevel en hy word in die navigators se span opgeneem. As ons vlieg mag jy mos nie darts gooi nie ... Gou deel van die groep, dag en nag op diens, die basis word 'n naweek nag deur 'n bende aangeval, net drie om te verdedig, Brinkie skiet al twee magasyne leeg, die skerwe van die wattelboom spat in sy gesig toe hulle koeëls dit tref ... Hulle lê snags op die witstreep as die Boeing 707 opstyg en speel chicken wie eerste weghardloop. Hulle vlieg na verre lande, “Brinkie, praat jy Portugees? Jy bleddie gou leer wat ons gaan nou twee weke in Luanda bly en jy het nie ʼn idee oor hoe die girls daar lyk nie!” Hulle behoort almal aan die Ysterplaat NG Kerk se kerk jeug vereniging want Dinsdagaande is dit tyd om die girls op te chat. Die koue oorlog word erger, hulle vlieg tot twintig ure op ʼn keer, die vier Rolls Royce Griffons grom gerustellend op die vlerke, een gaan dit seker nie maak nie, maar ons kan oor die weg kom twee, Brinkie sien die fregat, die rooi hamer en sekel waai in die Suidoos, die lugafweer kanonne volg hulle, hulle is bang, baie bang. Die Kolonel Lombaard is die baas en eintlik dierbaar, weet niemand mag van die Koreaanse oorlog praat nie, hy was vir twee jaar daar die krygsgevangene kamp ... Alles kom tot ʼn einde, en dis forty days.
“Brinkie kom fokkenwil gou hier,” beveel die kolonel, “en maak die donnerse deur agter jou toe ... ek hoor jy gaan weg?”
“Ja kolonel, my diensplig maak volgende maand klaar.” “Nou wat gaan doen jy dan?” “Ek gaan universiteit toe, kolonel.” “Is jy fokken van jou verstand af? Is jy fokken mal?” skreeu hy, “Fok uit my kantoor uit!” Die verskrikte Brinkie loop uit en verstaan nie wat gebeur nie.
”Brinkie, kom kuier gou hier man,” vra die kolonel die volgende môre, “Sit en teken net gou hier.” Brinkie neem die pen en die papier, “Lugman Brink, hiermee word u permanent aangestel en onmiddelik bevorder tot tweede luitenant, geteken RC Hiemstra, Luitenant Generaal, hoof van die SA Lugmag.” Hy dink lank ... maar sit die pen neer ... die kolonel sit met ʼn sakdoek in sy hand. “Ou Brinkie, ek het geweet jy kan nie, ek het maar net gehoop jy dit dalk anders sou dink ..." Hy is woordeloos, skaars neëntien, iemand glo in hom, iemand weet hy kan alles doen as hy moet. Hy staan op, sonder 'n woord, maak die deur oop, "..en Brinkie ... dankie ..."
29 Drinkebroers
Almal in die huis kyk op en staar by die venster uit. Die geraas op die rustige Sondagmiddag het almal nou helder wakker. “Waaauu!” gil ou Louis en sy twee makkers eggo in ʼn koor. Hulle sit wydsbeen op hul voertuie hou die stuurstange met een hand vas, die glas in ʼn ander en dreun af in Dorpstraat. Klein Hendrik jaag heel agter en doen alles wat Louis sê. Ou Louis kom gereeld kuier. Die ou woon agter die berg tussen daardie snaakse mense wat jy net elke derde woord verstaan wat hulle praat. Hulle mag snaaks wees, maar jong hulle kan wyn maak! Die driemanskap stop by die Braak. “Kyk net daai girls” gil Piet, “Kom ouens!” Met groot lawaai trek hulle weg en jaag oor die mooi plein terwyl diep hale in die gras agter hulle oorbly. “Stop net hier!” dis sersant Pieterse in sy blou uniform. “Klim af!” Die drie ouens af van hul voertuie en kom staan druipstert voor die Sersant. “Wat dink julle doen julle, ha?” vra die ou streng, “Julle is storm dronk, dronk bestuur, raas in die strate en kyk hoe lyk ons plein, kom saam polisiestasie toe!” Die drie slinger saam en sonder om verder te praat bondel die sersant hulle in die sel en klap die deur toe. Hul ouers word ontbied, die saak moet drie dae wag want die Cilliers ouers moet nog oor die berg kom. Landros Starrenburg kyk na die klagstaat, “Maar hulle is dan almal minderjarig, klein Hendrik is net sewentien?” Die wyse ou dink lank en diep en toe, “as straf sal julle vir drie maande nie weer
in ons dorp strate mag kom nie!” Hendrik staan op, kyk die landros diep in sy oë, draai om kyk na sy skaam ouers, toe die hele hof, “Jy kan dit nie doen nie, ek sal nie weggaan nie, ek is ʼn Afrikaner!”
Dit is Maart 1707 en die woord “Afrikaner” is gebore ... Hendrik Biebouw spandeer sy latere lewe, soos baie van ons vandag, in Perth.
30 Salig is die Sagmoediges
“Kry dit tog net van die grond af, ons weet nie meer watter kant toe nie.” sê die desperate hoofbestuurder van dienste by Anglo Platinum. Ons moet die afskop gaan doen van die breë basis swart bemagtigings projek en dis nagmerrie op nagmerrie. Die plek, Boekenhoutfontein konferensiesentrum. Jy kon nie ʼn meer politiek inkorrekte plek kies nie! Ons werk weke lank om al die belanghebbendes op te lyn. Die groot oomblik breek aan. So sestig kom toe stuk-stuk daar aan. Die vier groot banke wat vir die gelag moet betaal, ʼn kavalkade pikswart BMWs met die Rustenburgse burgemeester en haar gevolg, die staatsamptenare van Mafikeng, Anglo Plats se senuweeagtige amptenare ... Toe almal net mooi sit, drie Hi-ace Toyotas gevul met lawaaierige karakters met rooi hemde. Die NUM vakbond en op sy voorkop staan net twee woorde, “We Demand!” Toe jy dit die heel minste verwag weer twee Toyotas, die keer Hilux bakkies, en my ergste vrees word waar, Solidariteit! Ons sissies uit die Kaap is mos vir als bang, maar die ergste is ʼn ou met ʼn baard, khaki klere uit die Wes Transvaal met ʼn Vierkleur op sy regter mou. Sy lyftaal, “Ek laat my nie rond donner nie!” Stil in die hoek, van vroeg af, sit oom Piet, bykans sewentig en die verteenwoordiger van die Afrikaanse Handelsinstituut. Ek dink, “Ai tog oom, loop liewer, wat soek jy hier?” Na vele veldslae met korporatiewe halstarriges is daar ʼn resep, “Sit, ek praat nou, vandag werk so ... , .. , ... as jy nie tevrede is , daar is die deur, of jy loop of ek!” Dit werk gewoonlik en die dag teen alle verwagting ook. My gehoor sit soort by soort, met die bangste die bank amptenare in hulle swart pakke. Amper ʼn uur werk ons deur die feite en om almal darem op een plek te kry, toe gebeur dit ...
Agt silinders grom by die venster, ʼn pikswart Range Rover op die rystoel teken met een wiel op die sypaadjie. Die drywer in ʼn pak maak die agterdeur oop en daar verskyn die algemene sekretaris van Nafcoc, Moloya! Sy, nogal stewig gebou, kom met swier in en beveel, “Skuif op, ek gaan hier sit!” “Soos ek gesê het en om weer op te som,” tevergeefs om groep weer tot orde kry. Jan, die sielkundige, gee my ʼn briefie, “Verlore saak, fake maar al die pad dat ons gesigte net skoon bly ...” Deperaat kyk ek deur die venster, snaaks maar op Boekenhoutfontein se opstal se stoep sit ʼn ouerige man. Bebaard, lang grys manel aan en ʼn keil op sy kop. Hy is baie ernstig, kyk na my en skud net sy kop heen en weer ... nee, kan nie wees nie, my seker net verbeel? Die dag neem sy grusame verloop. Elke keer as dinge hand uit ruk, steek oom Piet sy hand op, “Dit klink vir my jy dink dat ... en as ons wat jy vertel by sit by wat julle ouens daar dink, dan kan dit dalk net werk as ...” Teen middagete het ons met moeite so 10 kern uitdagings op die tafel. Ons breek vir ete, Oom Piet knip vir my oog ... Na ete breek hulle in groepe om oplossings te soek. “En as jy terug kom, mag jy nie buzz woorde gebruik nie en jy sal jou oplossing vir ons teken, dig of mooi kreatief aanbied.” Hulle haat my want nou moet hulle nog werk ook. Hulle kom terug, die mooiste prente geteken en die beste voorstelle. Die laaste groep kom aan die beurt. Oom Piet, Moloya, vier Solidariteit tipes en vier NUMs aangevul deur Nedbank. Hulle sit dikbek by hul tafel. Moloya gaan vorentoe, sy blaai die blad om, daar is net 'n lys sinne, “In die eerste plek beveel ons aan ʼn paradigma skuif in die denke van die betrokkenes om te lei na ’n sinergie ten gunste van ʼn volhoubare uitkyk ...” Ek en Jan wil huil, sy breek alles af en maak fools van ons. Sy dreun voort, “En in die twee plek ... ”
Snaaks, dit lyk asof sy begin heen en weer wieg? “En in die derde plek ..." almal by haar tafel begin wieg, hulle staan op, Solidariteit en NUM hand om die nek en onder aanvoering van Oom Piet begin hulle sing! Al sestig staan op, ons dans, ons sing, ons hou mekaar styf vas ... ons huil ... die kleur in die nasie se reënboog is terug ... Ons stem agterna oor die bydraer van die dag, deur 'n waas van trane kondig ek aan, “En in die tweede plek ... sit julle hande saam vir MMMMoloya!” "En nou dames en here, drom rol asseblief! Die bydraer van die dag eenparig aangewys deur ons almal ... OOOOOOM Piet!!” Jy kon die gejuig tot vêr anderkant die N4 hoor! Ek kyk skelm uit by die ruit, hy sit weer op die stoep, tannie Gezie met kappie en al langs hom, sy keil in sy linkerhand, hy lag van oor tot oor, hy knip vir my oog ... Ek ry terug daardie aand, dis wolkloos en windstil oor die mooiste Bosveld, die vol maan kom op oor die Magaliesberg ... ek glo weer ...
Oom Paul Kruger het twintig jaar lank op die plaas Boekenhoutfontein net buite Rustenburg geboer.
Oom Piet, 70, siviele ingenieur, meestersgraad, ry van dorpie tot dorpie, by elke burgemeester in Noordwes Provinsie, hy gee raad oor slaggate en riool, meer nog hy is maar net hul vriend, hul skouer om op te huil as ook hulle maar net soos ons almal … party keer bang is.
31 Salig is die Vredemakers
“So kan dit nie aangaan nie,” sê Engela, “Pieter, ons sal eenvoudig uit hierdie gemors moet kom! “ Pieter skud net sy kop, kyk uit na die verskrikking buite. “Oom Gabriël het gevra ons moet gaan kyk. Ek stel voor ek gaan met oom Louis praat en jy gaan na oom Koos toe. Die oom sal jou nog onthou ons was mos bure.” “Goed, kom ons doen so want daar is net nie meer tyd oor nie.”
Koos slaap vas, die getroue Boela styf teen sy been en sy saalsak vir ’n kussing. Die Ma styf vasgeklem, dit is drie uur, dit is pikdonker en al die manskappe slaap onder die ope hemel. Dit is Augustus, net buite Kroonstad en dit is bitter koud. “Oom ... oom Koos?” hoor hy ’n stemmetjie. Koos sien verbaas die pragtige dogtertjie in silwerwit kleertjies by hom. “Oom dit kan nie meer so aangaan nie. Ek kom om oom te help om met hulle te gaan praat,” sê Engela. “Oom was nog altyd alleen. Oom het mos voor dit begin het geweet dat dit so gaan wees en toe skree almal op oom dat oom ’n lafaard is ...” “Ja my kind, maar waar kom jy dan nou vandaan?” “Maak nie saak nie oom, weet net dat ek by oom is en saam Vereeniging toe gaan,” antwoord sy. “My ouboet Pieter praat oom Louis en hy sal dan die hele tyd by tannie Nonnie wees. Ons twee praat net drie uur in die oggend met julle.” Koos word wakker, sy Ma lê eenkant, Boela staan onrustig rond en snuif, in sy hande is sy Bybel met ’n silwerwit veer, hy maak dit oop, die versie is met pers omring, “zalig zijn de vredestichters ... ”
Die jare gaan verby, Koos besoek prinse en konings en skep ’n nuwe land, tannie Nonnie se boek oor swaarkry en vergewing word ’n wêreld treffer. Maar ... die sluipskutter het die laaste woord, Koos verstik in sy eie bloed. “Dit is raak!” prewel hy vir laas.
“Welkom hier by ons, Koos!” sê Gabriël. Koos is ongemaklik en loer die heeltyd oor sy skouer na sy pragtige sneeuwit vlerke. Hy kan nog nie lekker vlieg nie, almal lag te lekker vir hom, veral ou Paul, want dis twee tree op die grond en dan drie vlerk klappe in die lug! “Koos, hier is iemand wat met jou wil kom praat,” sê Gabriël. “Hallo oom!” “Engela, dis jy! Jy het elke nag my geleer het hoe om met hulle te praat en vrede te kry. Engelatjie, jy het dit alles vir ons land gedoen!!” “Nee oom, dis oom wat so hard gewerk het. Kom, ek wil graag vir oom iets gaan wys.” Hulle vlieg deur die helder verligte omgewing, alles is skitterwit en pragtig, toe deur ’n lang tonnel. Oom Koos glo nie wat hy sien nie. Derduisende engeltjies wat op en af vlieg! “Oom,” sê Engela, “hier is al my maatjies ... hulle noem ons die Kampengeltjies!” Die meeste is babatjies, maar baie peutertjies en sommer klompe tieners wat rondvlieg en heerlik lag en sing. “Oom en dit is Pieter, my ouboet,” stel sy hom aan die mooi engel seun voor, “hy wil iets graag vir oom doen.” Pieter waai met sy vlerke en al die engeltjies kom hang mooi voor die oom. Pieter swaai sy dirigentstokkie, Engela gee die eerste noot.
Oom Engel Koos, Engel Gabriël, Engel Paul, Engel Theunis en al die ander snik .... Agt en twintig duisend mondjies trek hul asems in en die Hemelkoor sing,
“De la Rey, de la Rey, sal jy ook nou die Kampengeltjies kom lei?”
32 Amarula is koning
Dawid lig sy dop, kyk hom teen die lig voordat hy hom agter in sy keel af gooi! Welkom in die Bosveld, dis Februarie, dis maroela tyd! “Klein-Koos,” sê ou Dawid nou al effens benewel, “Mense drink mos cabernet, Johnny Walker en Black Label, maar dat ek nou vir jou vertel, vir my kom niks by Amarula nie.” “Jaaa oom Dawid” sê Klein-Koos, “daai ene het oom al soveel kere vir my vertel." “Nou toe dan ou Kosie,” roep ou Dawid, “Laat waai met nog enetjie, toe man!” Klein-Koos is ook al weer hoog in die takke en bedien oom Dawid met oorgawe. Hy gooi en die oom geniet. Dawid se kop draai al, maar hy dink so bietjie vandag oor die lewe. Vandat daai aaklige ou Anna en haar gespuis hom die deur gewys het en hy nie in daardie groep is nie, is dinge maar vervelig. Dis nou maar ʼn ou man se lot, hulle soek jou nie meer saam met hulle nie. Vrouemense hier by ons het altyd mos die laaste sê. Gelukkig is Klein-Koos darem altyd hier rond om hom geselskap te hou en al wat saak maak is dat solank daar Amarula is, is die lewe ʼn lied! “Gooi nog enetjie Klein-kosie, toe man?” roep Dawid alweer, "Klein-kosie waar is jy dan, jy gedra jou alweer vandag soos ʼn aap, sies man! “ Daar is ʼn doodse stilte en deur sy beneweling sien hy nêrens vir Kosie nie, “Kosie! Kosie?” Skielik is alles stil doodstil, hy knip se oë ʼn paar keer, hy voel voel aan die gebreekte punt van sy een tand ... genadiglik tref die koeël hom tussen die oë, sy lyding kort, sy gees sterf en hy sak op sy elmboë terwyl sy groot kop van kant tot kant swaai.
Hulle storm nader uit die bosse, kap sy logge liggaam in stukkies, sy bloed vloei in die sand ... hulle het al weer die laaste woord ... stropers van ivoor ...
33 Die Onbesonge Held
“Nou waar gaan die oom dan met daardie byl?” vra Letitia vir haar mamma toe hulle van die ontbyt tafel opstaan en oom Koos oor die werf strompel met die handbyl ... Ek wil vanaand vir julle verder van oumagrootjie Letitia vertel. Sy was ʼn dogtertjie soos Grethe terwyl oom Koos daar in ʼn kliphuisie op hul plaas, Vanrooyenpark, langs die Vaalrivier gebly het. Dit terwyl ons is almal heerlik hier by die vuur is en veral met Grethe, Rethe en Duvan nou ook hier. Julle is my en ouma se hart se punt! Wat is beter as hier in Letaba, die potjie wat Rian vir ons gemaak het en die Zonnebloem in my hand? “Mamma wat maak oom Koos dan hier? Wat is dan fout met hom?” vra Letitia soveel kere as sy hom sien strompel met die ewige byl in die hand. “My kind, ek wens ek geweet maar pappa wil vir niemand vertel nie.” Soms was haar mamma so kwaad vir haar pappa dat sy sommer op hom geskree het, “Kry die donnerse drol van my grond af, ek kan hom nie meer verdra nie!” Dan baklei hulle agter ʼn toe deur en Letitia druk maar net haar oortjies toe. “As Koos van der Bijl gaan, gaan ek ook,” was haar pappa se laaste woorde altyd, dan neem hy sy pyp, stap hinkend met sy kort beentjie weg om na die koeie te gaan kyk.
Toe daardie ʼn Sondag in herfs, haar pappa kom in by die kombuis terwyl Letitia weer haar oggendpap eet. ʼn Ware boer huil nooit, behalwe natuurlik as die eerste bulkalf van die seisoen gebore word, tog die keer loop die trane oor sy wange, “Koos is dood, hy lê net daar op sy vloer en hy hou die byl met albei hande vas ... ”
Mense kom van oral, belangrike mense uit Pretoria met duur spaaiders. Die staatssekretaris se spaaider het nie perde nie en die koetsier nie 'n sweep nie! Dit loop sommer vanself, kan jy dit glo? Hy vertel dat 'n Duitser, mijnheer Benz, dit vir oom Paul gegee het, maar die oom wil liewer nie daarin ry nie. Letitia en haar mamma verstaan dit nie. Oom Koos was tog ʼn alleen mens sonder kind of kraai? Hulle begrawe vir oom Koos en toe die laaste kluite op die kis val, sing almal, “Prys den Heer ... ” Haar pappa bid, “Dat Gij, Uw behaag het om Koos van der Bijl van ons weg te neem op dertig jaar en vier maande ... ” Wel, dit is soos ek dit alles onthou wat oumagrootjie Letitia vir ons so mooi vertel het. Toe nou amper honderd jaar later gaan ek weer deur ouma Letitia se goedjies en kry ʼn hierdie brief. Ek gaan dit vir julle lees, jammer maar ek gaan dalk huil …
Aan: Mijnheer Johan van Rooyen VanRooyenpark, Vaalrivier distrik. 27 Februarie 1895
Geagte Johan,
Ek en oom Paul het vandag beraadslaag. Ek het hom weer van daardie dag, 27 Februarie 1881 op Majuba vertel. Met geen ammunisie meer nie moes ons hulpeloos kyk na jou. Jy het leweloos gelê, honderd jaart verder, ons kon jou bloed op die klippe sien ...
Koos was maar ’n penkop nes jy, skaars 16 jaar. Hy skree op my, “Generaal! Hoekom staan jy dan net daar en doen niks, jou lafaard!”
My manne gryp hom om hom stil te maak, hy ruk los, gryp na sy sak en haal ʼn handbyl uit, hy storm af op die Rooibaadjies, hulle skiet hul magasyne leeg op hom. Hy het vermink vyf van hulle, die res vlug, die lafaarde!
Toe ons daar kom, jy met been wonde terwyl die bloed uit Koos se hare sypel. Julle het nog geleef, ons het die Here geprys!
Dokter Van Heiningin, die ou Hollander, het ons verseker dat Koos sal leef maar dat sy kop baie seergekry het en dit nie sal reg kom nie. Koos het die veldslag omgeswaai, Koos het die ZAR gered, Koos het jou lewe vir jou teruggee ...
Oom Paul het opdrag gegee aan mijnheer Rissik dat die plaas naam sal verander soos jy gevra het. Van nou sal dit wees:
“Vanderbijlpark”.
Die Dienswillig die uwe,
Piet Joubert, Kommandant Generaal, Zuid Afrikaanse Republiek
34 Daar kom die Wa
"Daar is geen manier om uit hierdie gemors te kom nie ... ” sug Gert moedeloos as hy na alles kyk. “Ja Gert, maar ons mag nie nou opgee nie. Juis vanoggend mooi geluister na die nuus en hulle vertel die weer sal verbeter.” “Jy kan daai ouens nie altyd glo nie, hoor my Piet.” “Ja Gert maar jy is te negatief, op my wynplaas buite Wellington het ek alles geleer. Ou moet net reg snoei en mooi nat maak en die Cabernet sal smaak asof dit uit die hemel kom!” “Luister Piet, jy verstaan nie, jy het te maklik groot geword maar as jy nou ry van Swellendam en verder op sal jy weet hoe swaar ons ouens daar kry. Jy het dit te maklik gehad man!” “Luister nou mooi, los dit en betaal my nou die bedrag wat ek jou genoem het en jy sal elke maand tien present opbrengs kry!” “Hoe kan ek jou glo, ek hoor jy in was Grahamstad gearresteer oor geld dinge?” “Waar hoor jy dit? Glo jy die koerante? Maar gaan vra vir Johan en Koos en al die manne. Jammer Andries is nie nou hier nie. Hy sal jou ook vertel dat elkeen van die mense nog hul tien present elke maand gekry het. Toe man, wat is dit met jou?”
Almal is bymekaar om Piet. Hulle gesels hard en opgewonde, vandag is die dag! Gert staan eenkant want hy glo die ou net nie. “Kom ouens vandag fix ons hulle op. Daai outjies het geen kans teen ons nie!” “Jaa Piet!” brul almal.
Koos staan vorentoe, “Piet, ek glo ek praat namens almal hier, ons loop saam met jou sover jy gaan elke tree. Jy het nog net mooi vir ons gebring en die hele Kwazulu-Natal praat oor dit. Jy kan nog baie beleggings verwag!” “Reg! Manne klim dat ons ry en daai ouens gaan kort vat, ons kan nie dat hulle ons verder rond voeter nie. Ons het besigheid om te doen!” Susanna kyk na alles, sy stap na Gert toe, “Boetie, asseblief, hier kom groot fout, keer vir Piet!” “Ek het alles probeer maar hy luister nie ...”
Sy kyk uit oor die verbrande voertuie, die verminkte lyke, alles gebreek en verwoes, “Hoe nou? Nou sal ons maar kaalvoet oor die Drakensberg moet loop … ”
Pietermaritzburg word na Gert en Piet vernoem. "Andries" verwys na Potgieter of Pretorius. Susanna Maritz word 'n leier en kry sin in die moeilike tyd. Piet Retief en al sy manne word wreed vermoor deur Dingaan te uMgungundlovu op 6 Februarie 1838. Piet was 'n swendelaar en mense met hom saam gesleep. Hy is etlike keer in Grahamstad gearresteer vir bedrog.
35 Die Bittereinder
Dis winter, dis stil, drie uur in die oggend, pikdonker is Durban, hy sluip van pilaar tot pilaar, die jaggeweer agter sy rug, magasyn gelaai, die knaldemper gereed. “Doef!” klap die skoot amper onhoorbaar, hy hardloop weg! Essee was vas aan die slaap toe hy die verskriklike pyn in sy been voel. Die bloed loop warm van hom af. Hy weet alles is verby, al sy drome, alles. Hy huil ... Hier slaap almal die saam, die ouens, die meisies en sommer die jongetjies ook. Atlete, ons vertrou en leer by mekaar. “Oom Essee!” gil Petrusa, die voshaar nooitjie, “kyk hoe lyk oom se been!” Almal hardloop nader en staan om Essee. “Ons moet hulp gou kry,” sê Petrusa en hardloop deur toe om vir Syd te gaan roep. Sid en Robert hardloop nader, “SC, just remain calm, I will phone the doctor!” “Hoekom moet my afrigter nou ʼn Engelsman wees?” deur sy pyn dink Essee. “Hy is so oulik, maar ai daai taal, ek bedoel nou hoe sê jy vir iemand, ‘gaan k$%k’ op Engels?” Die dokter kom, spuit vir Essee in sy nek en ʼn genadigde donkerte sak op hom toe. Toe hy wakker word staan Syd by hom, die trane loop teen sy wange af. “SC do not panic, it will be ok, they could not remove the bullet, but you will be ok, I am your friend ... "
Hulle besluit dat Essee by die ander moet bly want hulle kan soveel by hom leer terwyl hulle voorberei vir die wedlope. Hy word sterker en sterker.
“SC, I think that you and Robert should go for a jog, lets see how you feel then,” bring Syd die wonder nuus.
Essee voel min pyn en hy en Robert weet dat hy dit dalk weer op die baan kan waag. Hulle neem deel aan die een wedloop na die ander. Nou die langer stadiges sodat Essee gewoond kan raak. Sy tye verbeter en hy word deur almal bewonder.
“SC, the big one, do you think you can do it?” vra Syd.
Essee is oorstelp van vreugde en knik sy kop oor en oor!
Hulle trek hom nuut aan, Robert is al tyd pad by hom, die skoot klap, hy is heel agter, by die duisend meter merk gebeur die wonder, sy pyn is vergete, sy oë verdwaas deur die sweet, hy voel asof hy vlieg en opstyg ...
Dit is alles verby, koerantmanne omring hom, bekers uitgepak, hulle hang veelkleurige linte om hom, Robert en Syd hou hom vas en huil openlik, en toe ... “Ladies and Gentlemen ... now for the big moment ... the winner of the 1967 Durban July Handicap .... Sieeee Cottage !!!”
(Sea Cottage was afgerig deur Syd Laird en sy jokkie deur dik en dun was Robert Sivewright. Die aanvaller is gevang en tot 6 jaar gevonnis.)
36 Meneer Hennerik Pretorius
Hennerik Pretorius sit by sy gewone tafel in die hoek van Rhapsodies en kyk na die N1 en die verbysnellende Gautreine. Die Mont Blanc se swart punt loer uit die sak van die donker blou Pringle wat los oor die Levi hang. Sy effe grys slape kort geskeer terwyl hy oor sy kenbaard vryf. Dis Maandag, dis oesdag en hy kyk tevrede uit na laaisone en die metaal swart X6 ... EMPATIE GP. “Hoekom is die ou man al weer laat, die ou fool het seker weer verdwaal,” dink hy ongeduldig.
'n Verslete Camry, DTR 456 GP draai in, oom Johannes is hier! Lydia ontstig hom elke keer, hy dis tyd dat Mike haar laat gaan. Sy lyk dan net soos ... Sy kom verskrik nader, “Ja, meneer?” “Hoekom moet ek heeldag weer vir my koffie wag?” skree hy op die fyn blonde meisie.
“Môre oom!” groet Hennerik, sy kop effens gedraai, sy linkerhand raak aan die oom se elmboog. “Kom sit oom, ek bestel vir ons koffie ... en oom ... praat asseblief oom se hart uit?” Hennerik skuif die Nuwe Testament effens uit sy boektas en die oom vertel en vertel en Hennerik knik gereeld ... “Ja oom,” sug Hennerik, “dis dieselfde storie, mens kan mos niemand vandag meer vertrou nie, niemand nie. Ons Afrikaners moet bymekaar staan anders bly daar vir ons niks oor nie. Vat nou die banke, die grootste skelms en die spul wat vir ʼn mens aandele probeer verkoop. Ai tog ...” “So oom verstaan nou mooi, oom neem die lening wat Koos by Absa gou sal opstel teen die plot in Struisbaai. Koos sal dit vir ons oorboek. Oom, kan Koos
vertrou, was mos eers by Volkskas en hy is een van ons mense. Al wat oom moet doen is om net hier en hier te teken. Lydia sal gou vir ons getuie wees.” “Susan by my kantoor sal maandeliks en oom se verslag vir oom gee. En oom ... hier is die lys van al my beleggers en hul telefoonnommers. Skakel gerus en oom sal hoor dat elkeen nog altyd meer as tien present per maand by ons gekry het. Oom en die tannie nou vir die eerste keer uitsien na ʼn heerlike oudag.” Hennerik wink vir Lydia nader en gee haar ʼn skelm knypie terwyl sy vir hom oog knip. Oom Johannes groet haastig om vir tannie Susara die goeie nuus te gaan bring. Hennerik haal die pakkie Gunston met sy bewende hand uit, steek aan en suig dringend. Hy hou die Kleenex oor sy oë ...
Met erkenning aan beeld.com met Dana Snyman met, “Wees nie bang, oom se geld is veilig by my!’ en sake24.com met David Meades, “Elke dag word ’n dom boer gebore”
38 Weemoed in die Steppe
“Nasdarovja!” weergalm dit in die kroeg. Welkom by die onthaal van Meneer Solobek Bekbosinoff, algemene hoofbestuurder van die Bakyrchic goudmyn. Na vanaand sal niks ooit weer dieselfde wees nie! Ons werk al weke lank het om te probeer ʼn transaksie aan mekaar te slaan. Dis duisende kilometers verby die Oeral en die verste plek op aarde van die see. Dis kort na die muur geval het en die ouens in uniforms dra nog sulke vreesaanjaende hamers en sekels op hul pette. Sommer op die grens van Mongolië ook nog. Hierdie ouens is groot, wit velle, maar het al sulke skrefies ogies. Vier van ons, dis ses uur die aand en die gasheer plus nog twintig van sy onderdane, almal mans, behalwe Valeriya ... blond blou ogies, ronde gesiggie en praat mooi Oxford Engels. (Haar duistere KGB verlede?) In die kampong waar ons bly, lag die Ozzies en Yanks, en een ding is seker; hier kom ʼn ding! Jy kan nie weg bly nie, oo nee, dan is die besigheid daarmee heen. ʼn Klein outjie soos ek en wat net ʼn ou rooi wyntjie af en toe geniet, is vooraf gedoem. Dit gaan hier oor oorlewing, en my plan is was om so ver moontlik van die gasheer te sit. Arme ou Steven, ouderling in sy kerk moet reg langs die vriendelike meneer sit ... Andrjez is ʼn Pool, hy verstaan beter hoe dit werk en John ʼn gewone ou en maar net ʼn liggelowige ingenieur ... “Hier gaan ons vanaand diep dinge praat, party moet liewers vergeet word, daarom sal ons saam ewe veel drink en alles vergeet!” kom die bevel van ons vriendelike gasheer. Die eerste heildronk kom, Meneer Bekbosinov staan op, hy praat hard en duidelik en Valeriya vertaal. Hy neem ons twee keer kaalvoet bo-oor die Drakensberge, eers op teen Majuba en die Rooibaadjies in die stof laat byt toe
verslaan ons die Khakis finaal by Magersfontein! Toe Doktore Verwoerd en Malan se heldedade besing. Die KGB ouens weet mos alles en die lewe is 'n lied! Almal staan op en gil, “Nasdarovja!” Jy sluk die gif met een sluk en sit die glas dan onderstebo op jou kop. Dit brand ʼn pad af in my spysverteringskanaal. Vanaand is dit weghol/doodgaan/’n gek word. Dalk al drie! Advies nommer twee, moet niks tussen in drink nie en hoop jou metgeselle se sintuie vervlak vinniger as joune. Maar ... wag ʼn bietjie ... water lyk mos nes wodka? Gou, gou, val my wodka op die vloer en die glas is vol water! Oorleef nog twee heildronke, maar oo wee, die spioene vang my uit! Sulke sulke fris Russiese dames wat ons moet dophou. My kop duisel, gelukkig het die spioene ʼn eie bottel in die kombuis en hul sig word stelselmatig aangetas. Dis my beurt, ek staan op met my vol glas water in my hand, Ek besing die Tsaar, Lenin, Stalin, Gorbatjof, die reise na die buitenste ruimte, die Wolga en die Oeral, verslaan Napoleon, Bill Clinton en sommer Hitler ook en neem my gehoor tot by Vladivostok en weer terug, my laaste sinne in vlot Russies, “Da! Spaseebah! Nasadrovja!” Almal rafel rafel uit. Party onkapabel, ander sommer net siek en ek en Andrjez dra die hulpelose Steven en sit hom in die bed. Andrzej en John loop sulke wye draaie en hulle stem met een ding saam, “Shhjoe maar jy vat jou drank goed!”
Ek sit hulle in die bed, vanaand nie ʼn oog toe te maak nie, die ouens moet deur getrek word, trek my Nikes aan en vat die pad in die vol maan. Tien kilos om die gif uit te sweet. ʼn Groot wit Siberiese wolf staan daar ... ons kyk lank vir mekaar, ek buig vir hom want hy is so mooi ... Ek draai om en kom terug, my kollegas nou baie siek, ek maak skoon en vertroos ... 24 uur later is al drie darem so half op die been..
Dit is twee weke later, Menlyn sentrum in Pretoria in Greenfields restaurant. Die kelnerinnetjie het blou ogies, daardie ronde gesigge, sy bedien ons en ek skryf op haar rekening, “Spaseebah, ti krahsseeviy” (Baie dankie, jy is so oulik ...) Sy bly lank weg, kom stadig nader, die ogies nou bloedrooi gehuil, sy gee vir my ʼn brief, drie bladsye lank. Andrzej vertaal later, “Dankie meneer, jy weet nie wat jy vir my gee nie, ek verlang soveel na my mamma, pappa en na hom, wonder of hy al kan stap? Hulle kyk vir my na klein Vladimir ... wanneer kan ek weer huis toe gaan?”
39 ʼn Kissie vol Soentjies
Ou Koos is al weer dikbek en kyk van ver na Vanwyksvlei. Hy vryf oor sy lang onversorgde spierwit baard. Die dorpie en die ysterklip koppies dans in die hitte, dis al weer aaklige Desember. “Hoe minder ek met die simpel mense te doen het hoe beter, ek HAAT hulle,” dink hy vir die soveelste keer. Hy onthou met bitterheid die politieke struwelinge, die jaloesie oor sy meestersgraad waarmee hy grense van ingenieurswese geskuif het, die skuld wat op hom gepak is na die dam gebreek het, die ondergrawing wat tot Susara se dood gelei het, dat sy kinders dit alles glo en nooit hier kom nie. Ongelukkig moet hy soms daarheen loop om sy pensioen en pos te gaan haal en paar goedjies te koop. Hier in sy modderhuisie is hy op sy gelukkigste, paar skape, die windpomp vir sy water met sy boeke en die kerslig saans. “Dan die simpel dominee, vir wat karring hy so aan my? As hy weer hier kom jaag ek hom weg.”
Koos gaan lê vir sy middagslapie in die kokende warm huis. Hy dut net in toe is daar ʼn klop aan sy deur. “Ag nee wat nou!” Hy pluk die deur oop. Voor hom staan Annemarietjie, die dominee se blonde dogtertjie. “Ja, wats dit nou?” “Oom, ek en my maatjies wil vir oom iets kom vra?” sê die voor-op-die-wa dogtertjie. By haar is Sarie en Annetjie. “Ek het niks met julle te doen nie, gaan weg!” “Oom asseblief, en ons het vir oom ʼn geskenkie gebring,” sy hou ʼn mooi pakkie
uit met ʼn rooi strikkie en ʼn briefie op. Die dogtertjies draai stadig om en stap die paadjie af terug na die dorpie toe. Koos word doodstil, die pakkie weeg amper niks. Stadig maak hy dit oop. Hy lig die deksel op. Binne in niks ... hy lees teensinnig die briefie.
“Liewe oom Koos,
Die geskenkie is net vir oom. Oom moet weet ons kindertjies is vir oom so jammer en bid elke dag net vir oom.
Kyk mooi in die kissie, oom sal sien dit is stampvol, ek en Sarie en Annetjie het vir twee ure lank ons soentjies hier in geblaas net vir oom. Ons is so lief vir oom.
En oom, oom is mos die heel mooiste man in ons dorp, sal oom dit vir ons kom doen asseblief?
Sien dit gaan so werk ...”
Dis ou Kersaand, die kerksaaltjie is vol mense. Hulle sing, “voor u ryk moet die duisternis swig, tot in ewigheid bly U die lig, Heer, gebore vir ons!” Op die verhoog is daar ʼn groot stoel, omring deur veelkleurige pakkies, sy wit baard hang oor sy rooi baadjie, al die kindertjies lag met hom en raak aan hom. Hy lag vir die eerste keer in baie jare, trane van vergewing en versoening drup op sy helder rooi broek.
Geinspireer die die kersverhaal van Fred Burks, The Gold Wrapping Paper. Vir meer oor die plek waar dit afspeel: www.vanwyksvlei.org
40 Lewensredding
Dis die vroëe oggend ure. Ons rap sheet uiteindelik afgewerk en ek en Louis, my maat op vanaand se skof ry stadig op en af deur die verlate strate. Dit is Desember, die tyd wat ons die bangste voor is want tussen die bome gloei soms reflektors. Ook vannag weer so, “Ag nee, net nie dit nie!” Ons stop en stap versigtig nader, die tuinslang en die handdoek in die venster ... ons raak paniekerig. Sy leef nog, die enjin nog nie aangeskakel. Ons lig deur die venster, daar is trane op die neëntien jarige se wange. Ek klop aan die venster, “Maak asseblief oop!” “Fok jou!!” gil sy terug. Louis sê, “Jy kan maar sê ‘fok jou’, maar ons gaan nou op jou bonnet sit en rook tot dat jy oopmaak.” Ons pakeer haar vas, haal ons pette af, gaan sit op haar kar, steek ʼn sigaretjie aan en wag. Die ruit gaan effens oop. “Nou wat het gebeur?” vra ek. “Fokkol met jou te doen!” skree sy terug. "Het jou kêrel jou gelos?” vra Louis. “Ja, maar fok jou weer ʼn keer!” “Toe ek so oud soos jy was het my meisie my mos net so gelos toe ek Langebaan toe moes gaan ... ” Die ruit draai verder af, “Rêrig en toe?” “Stupid vraag, ek het gesuip natuurlik, gesuip met net een doel om my self vrek
te drink” “En toe?" “Wel, een aand, lê ek net in my bed, toe klop iemand aan die deur. Dit was ons baas. Hy kom sit by my, hy het my hand gevat, ‘Ou Louis, jy moet nou slaap, net môre ry ek en jy saam en die keer gaan jy voor sit en alles doen!’ Toe ons daardie middag terug kom het al die ouens en die mechanics hulle pette in die lug gegooi en net vir my ge-tjeer!” Sy vra, “Wat doen jy dan nou?” “Ek werk af en toe vir die polisie, maar daar is vandag 350 mense wat graag New York toe wil gaan. Ek gaan hulle neem, ek gaan weer heel voor sit ...” Terwyl hulle praat, neem ek die tuinslang, die handdoeke en bêre in ons bakkie. “Kom, sit jy nou daar, Louis sal bestuur, ons moet jou na jou mamma toe neem, ek volg met die bakkie.” By die huis brand al die ligte, ʼn man en vrou hardloop uit, rasend van bekommernis. Al vyf van ons staan styf teen mekaar, ons trane loop. Die mamma kyk op, “Kyk net daar hoe mooi!”
Ver weg oor die Magaliesberg wys die eerste strale van ʼn nuwe dag ...
41 De Vliegende Hollander
Willem van der Decken, kaptein van die vinnigste seilskip ooit gebou begin skelm met seerowery. Paasnaweek 1678 seil hy die Kaap binne, ʼn groot storm woed en hy verklaar, “de Kaap vaar ik om, al moet ik varen tot het laatste oordeel!” Hy gooi sy stuurman oorboord, die arme ou se naam was … Casparus. Die spookskip vaar tot vandag toe nog, gaan staan net op Bloubergstrand, middernag op Paas Sondag, en net so skuins regs van Robbeneiland sal jy duidelik die seile in die wind sien ...
Madame Ceazaria gee ʼn diep sug, “Ai Koos, ek kry net nie die antwoord nie.” Hulle is moedeloos. Eers was dit die Tarotkaarte, toe die teeblare en Koos se geswete handpalms. Laaste het hulle die antwoorde in die sterretekens gesoek. Elke keer moes Koos ʼn dik rol ongebruikte R200 note neersit wat met ʼn flink hand beweging in die plooie van Madame se ruim boesem verdwyn het. “Koos daar is net een antwoord en jy moet nou mooi luister ... ”
So liewe leser hier is ons nou. Middernag Paassondag in die Maitland begraafplaas. ʼn Verskrikte Koos sluip bang van grafsteen tot grafsteen. Lord Charles, ou Simon, Wolraadt ... hulle is almal daar. Hy staan hartseer by die een van Ingrid, “Bitterbessie dagbreek ...” Hy volg Madame se plan en uiteindelik daar is dit, ʼn skewe marmersteen met die woorde dof in die maanlig, skaars leesbaar, "Casparus Hendrickus Matthijs Cuijpers Geboren Vrijdag 13 Oktober 1641 te Maastricht. Overleden 24 Maart 1678 in de zee te Kaap de Goede Hoop." Koos staan op sy knieë en praat met die graf, “Asseblief tog, Madame het
belowe jy sal help!” Niks gebeur nie en net die tierende suidoos wat huil, “asseblief tog ou!” Teensinning steek hy sy hand in sy sak en sit die dik rol note onder die klip soos Madame gesê het hy moet doen. Jy sal my nie glo nie, toe die Madibas die klip raak, net daar stop die wind en dit is doodstil. Koos se hare staan pen orent, nou is hy baie bang. Wys jou wat ʼn pak note kan doen! Hy hoor iets agter hom en kyk verskrik om. Daar staan dit, so tien sentimeter bo die grond, ses voet en twee duim lank, spierwit en in dooie lywe, ou KVS! Kasper die vriendelike spook! “Koos, ek en Madame telepateer daagliks en sy het my als laat weet. Jy het groot moeilikheid! Vertel!” “Ou Kasper hoor my nou mooi, saam met werk Louis le Roux. Nou ons doen beleggings vir allerhande mense, ag jy weet mikrolenings en dinge waaroor ek liewer nie wil praat nie. By ontvangs werk nou Lydia, wat ʼn girl!” “Weet jy wat doen Louis toe, sy vriend ou Sybrandt die koeiboer, het hom aangeraai om so bietjie in die trust fondse te krap en met ʼn Jag XK voor ʼn dag te kom om Lydia te beïndruk ... my meisie is daarmee heen!” Koos pik ʼn lastige traantjie van sy wang af. “Ja Koos, nes ek altyd sê, ʼn Fransman kan jy nie vertrou nie, gee mos altyd oor as die eerste skoot klap, ek bedoel vat nou Piet ‘Sirkusgeneraal’ Cronje by Paardeberg. Kom ek help jou, maklik!” Louis le Roux, stop voor die kantoor en maak die deur met swier oop vir Lydia. Sy pik ʼn soentjie op sy stoppelbaard. Net toe sy wil gaan sit weet jy wat gebeur toe? Die hele Jaguar verander in ʼn Fries koei en om haar nek hang ʼn bord, “Bontrok”!
Vuil besmeer van al die koeimis strompel die arme Lydia by die kantoor in, “HEELPP, HELLLP!”
42 Die grootste kersgeskenk
Meneer Kersvader, Takbokstraat 1 Noordpool 0000
Liewe Oom,
Toe ek verlede jaar skool toe gegaan het was juffrou Annie ons juffrou. Sy het my so mooi geleer en nou kan ek al goed skryf en vir oom die briefie stuur.
Oom, juffrou het so ʼn klomp witgrys hare gedra en sy het in ʼn klein huisie alleen buite die dorp gewoon. Sy het altyd vir my geroep en gesê, “Lydia, jy is die mooiste en slimste kind in ons skool, Lydia jy kan alles doen!”
Maar oom toe sê sy ook dat ek elke jaar vir oom dingetjies maar kan vra. Ek het nie poppe en bedjies soos die ander dogtertjies nie, net die goedjies wat die kerk elke jaar bring, maar dit raak gou weg.
Oom Kersvader, dit maak nie saak nie want weet oom, ek gaan mos eendag ʼn dokter word en dan sal ek almal se hartjies bly maak. Ek mag mos oom?
Juffrou het toe vir my klomp seëls en koeverte gegee sodat ek dit vir briefies aan oom kan gebruik. Sy het ook vir my oom se adres gegee. Ek verlang soveel vir Juffrou, sy is nie meer hier nie, sy is mos nou by Jesus ... en ek weet dat alles wat sy vertel het waar sal word.
Al die kinders is weg saam met vreemde mense wat hulle vir die vakansie kom haal het, net ek, Sarel met die mank beentjie en Paul met die leep ogie het oorgebly. Nou skree tannie Sara wat hier werk elke dag op ons. Hoekom oom?
Oom hoef nie vir my poppe en bedjies te bring nie, maar as oom en die takbokkies met oom se mooi slee opgestyg het en oom het almal se pakkies afgegee, dalkies kan oom hier ook ʼn draaitjie kom maak.
Asseblief tog oom?
Oom, ek voel sleg om vir oom so iets groots te vra, maar ek weet oom sal verstaan, ek wil net een ding vir Kersfees so graag hê, net een ding oom...
Dalk ʼn Mamma vir Kersfees ... ?
Liefste Groete, Lydia Marais
Hoëveld Kinderhuis, Witbank
Suid-Afrika 1043
Geinspireer deur my projek met Adriaan Bergh, meneer Suid-Afrika 2011, by die Jakaranda Kinderhuis
43 Die Wortel van al die Kwaad
In die Noordweste is enigiets moontlik, maar die wortel van al die kwaad is ʼn piepklein dingetjie wat almal omkoop en mislei. Geïnspireer deur DJ Opperman, "Op die groot saaidag van die heelal, het reeds 'n entjie duskant Wupperthal, oor die kaal Noordweste, 'n sakkie van die Heer se beste saad per ongeluk gelek, gelek en uitgeval."
“En wat gaan hier aan?” vra ou Gabriël terwyl hy sy spierwit vlerke vêr uitsprei. “Oom,” sê klein Pietie, die leerling engeltjie, “dit lyk maar sleg.” “Nou toe gaan roep almal bymekaar dat ons kan beplan!” Die hele lot vlieg nader en kom sit voor Gabriël. “Menere Engele, kom laat ek dit nou weer mooi verduidelik want lyk my julle het weer half gehoor. Die aarde is in ses dae geskape en ons is nou op dag sewe. Almal rus nou behalwe die VEE. Ons die Vlieënde Engele Eskadron. Ons werk is om vandag om die nuwe aarde te vlieg en enige foute te soek wat gemaak is en dit voor môre reg te maak. Toe weg is julle!” Daar is ʼn geskarrel maar op die ou end is almal in die lug om die ses kontinente en al die eilande vir foute te gaan ondersoek. Engel Gabriël vou sy vlerke op en strek homself uit. Tyd om ʼn middag slapie in te kry, “ek is die baas van die VEE, hulle werk en ek slaap!" Een vir een kom hulle terug. Amerika is perfek en so ook Europa. Paar hakplekkies in Asië en Afrika maar niks om oor opgewonde te raak nie. Antartika is ge-ys en sal so moet bly en Australië is totale chaos en te veel moeite om eers iets te probeer. Toe gebeur die ergste, ou Pietie die mank outjie met die dowwe ogies, kom weer aangevlieg, “Oom Gabriël, oom Gabriël iets vreesliks het gebeur!”
“Wat nou weer, Pietie?” "Oom, onder in die suide van Afrika loop so ʼn groot rivier, net onder dit is dit woes en droog. Hulle gaan so swaar daar kry, oom moet iets doen, asseblief tog oom?” Gabriel styg op in die wieke van die wind, hy sweef soos ʼn arend en kyk van ver af na alles en besef dat die drade hier sleg gekruis het. Iemand het weer half gehoor of was aan die slaap. Sjoe! Hy roep almal bymekaar en gee die engele dekreet, “Menere Engele, hierdie streek sal ons groot verligting moet gee, so ek verklaar dat daar heelwat springbokke sal wees en dit sal aan almal sal behoort, verder verklaar ek die mooiste blomtuin op die hele aardbol net daar!” "Hoor! Hoor!" brul die skare. Hy trek sy asem in en gaan voort met sy diep bas-bariton stem, “en laastens het ek ʼn klompie klein klippies uit die hemel gebring. Amper soos glas, maar dis die hardste en mooiste klippies wat jy ooit sal sien. Toe gaan ek en steek dit diep weg sodat hulle hard sal soek daarvoor. Dit sal die meisietjies se harte verbly soos niks anders nie” “Ek doop die land, ‘Namakwaland’ en ek verklaar hiermee dat die klippies aan die persoon sal behoort wat dit vind!”
Net daar liewe leser, is waar alles verkeerd geloop het!
44 Die wêreld is ʼn toneelstuk
“Ag nee, net nie dit nie,” sug ons toe die brief in die bruin koevert opdaag. Ons gaan sit toe daardie Saterdag, in die majoor se kantoor gereed vir die slegte nuus. “Here en dames,” begin Majoor Vermeulen moedeloos, “Die hele lot is weer op my nek, die keer uit die kantoor van die minister. Julle ouens moet asseblief aan iets dink, dit kan net nie so aangaan nie!” So liewe leser dit werk nou so, elke Saterdagaand rinkink vele studente in die Pirates Cove so sewe kilometer van die manskoshuise in Lynnwoodweg. Net om daarna met groot lawaai en huilende bande die terugtog aan te pak, soms met rampspoedige gevolge. Almal kla omdat ons al weer niks doen en so onbevoeg is. Wat jy nou ook sal moet verstaan is dat in daardie tyd, almal wat saak maak in Lynnwood bly. Jy sien hulle vandag nog op Pensioenaris Dinsdag in Super Spar agter die winkel waentjies skuifel. Al wat die gewese belangrike ooms oor het om te wys staan blink en netjies in die parkeerterrein, die ’94 C230 wat met die laaste pakket geldjies na sy vroeë uittrede gekoop is. Die ooms, gewese adjunk direkteurgenerale, bestuurders van die oorlede landbourade almal daardie tyd ʼn direkte lyn na die Uniegebou gehad. Wat jy verder moet weet is dat die genoemde baldadige studente weer nabye familie van dieselfde belangrike karakters is. So daar het jy dit, verloor en verloor en die arme konstabels, sersante en offisiere van die SAP is dom en onbevoeg ... al weer! Die majoor kyk ons diep in ons oë en smeek op ʼn oplossing. Ons is lede van die reserwemag en ons doen ander werk, maar naweke help ons die wa deur die drif trek. Betaling daaroor nogal ruim: R0.00! Pieter, ons luitenant en ʼn elektroniese ingenieur sê toe, “Ouens kom ons lys bietjie wie en wat ons is.” Wel jy sal my nou nie glo nie. Chris, die sersant, is ʼn dokter. Guido en Frans is
ingenieurs met swart gordels in Karate, ou dom Konstabel Sakkie het twee doktorsgrade in fisika terwyl Johan ʼn maar net 'n advokaat is. Annette weer se man is vise president van die Reserwe Bank ... so hou die lys aan. Ons buig toe krom en die meesterplan word gebore. Daai Saterdagaand, so van tienuur af, blokkeer ons Lynnwoodweg. Die eerste slagoffer word afgetrek, dis Guido en Frans se werk wat enige teenstand met ʼn stampie op die regte plek begroet. Hulle sleep die arme ou tot in die vangwa. Daar is ʼn netjiese bed en Chris staan daar in volle uniform met ʼn stetoskoop om sy nek. Annette weer is soos 'n suster in die ongevalle eenheid aangetrek. "Lê ou en gou ook!” sis Guido. Voor die slagoffer kan dink, sink die naald in sy polsslagaar en 25 milliliter donker rooi vloeistof beland in ons houertjie, netjies genommer. Toe volg sy vingerafdrukke. “Julle kan dit nie doen nie!” gil hy, “my pa ken die minister en hy sal julle kom ophel!” Vir sy geskrou nog ʼn pynlike houtjie van Guido en hy strompel na sy kar van waar sy verwilderde vriende alles moet aanskou. Ons laat nog twintig aan die pen ry. Natuurlik sprei die slegte nuus terug na die Pirates Cove en Koos die kroegman sit die musiek af, “Ouens hoor hier, die Ore sit in Lynnwoodweg, julle moet oor Atterbury terug ry!” Sakkie sit in die hoek met ʼn Black Label in sy een hand en fluister in sy radio, “Manne, skuif gou Atterbury toe!" Die slagting duur voort en ons herhaal die pret nog 3 naweke. Geen vorms, bloed analises, polisiesel aanhoudings, krapperige staatsaanklaers of hofsake terwyl dronkbestuur in Lynnwood val met 90%! Nou dierbare leser weet ek jy sal my vra, “Nou wat maak julle toe met al daai bloed?” Wel, daar is lang wette daaroor mediese afval, maar niks wat ons nie twee uur die oggend, net daar op die hoek van Atterbury en Lynnwood nie kan reg maak nie ... al die bloed en die houers verdamp in die winterlug danksy ʼn welige
kampvuurtjie! Lekker slaap en ry tog veilig ...
Erkenning aan William Shakespeare, “All the world's a stage, and we are just the players”.
45 Jan Rap en sy Maat
Dis al verby toesluit tyd en dit is Saterdag. Dis maandeinde en ook betaaldag ... Die kroegman, ou Bang Jan Lourens, ratel al met die sleutels, maar Jan Alleman en ou Mal Jan Cilliers hang weer aan die lippe van Jan Rap wat weer ʼn vreeslike liegstorie vertel terwyl hy sy sesde Klippies en Coke met oorgawe leegmaak. Jan trek weer los met, “en ouens net toe ek om die draai ry …” Hy vat 'n diep sluk en toe jy dit die heel minste verwag is daar ʼn helse slag. Jan, Jan, Jan en Jan spring orent, die tafeltjie val om. Wat nou? Bang Jan spring los hande bo-oor die toonbank en gil, “Kom ouens hardloop!” “Wat is dit nou Jan?” vra Jan. “Ek weet nie, maar iets vreesliks het buite gebeur!” Jan, Jan, Jan en Jan strompel by die kroeg se swaaideure donker nag in. “Help, helppp!” hoor hulle in die verte. Bang Jan skree, “Kom ouens ons moet gaan help!" Onthou nou net Bang Jan is enigste wat die aand op Coke moes oorleef so dit gaan maar staaadig. Jan, Jan en Jan struikel agter Jan aan, val val tot op die dorpspleintjie. Jy sal my nou nie glo nie maar weet jy wat staan daar op die dorpsplein tussen die NG Kerk en die Grênd Hotel? ’n Reuse tent met helder ligte! “Ouens, dis ʼn casino met mooi girls, kom!" skree Jan. Die spul slinger by die ingang in. Die dames wat hul inwag is skamel geklee en swaai hul bates lieflik rondborstig heen en weer met skinkborde gedrapeer met
die heerlikste drinkgoed. Binne is dit helder verlig en woeste musiek speel. Daar is 'n bênd met 'n blou geskilderde drommer wat op en af spring! Maar oo wee, toe gebeur dit … daar sit hy. ’n Groot lessenaar van kiaathout en met ʼn swart pak klere, rooi das en goue knope op sy moue. Hy het ʼn pak vorms voor hom en ʼn rekenmasjien. In sy hand is ʼn platinum Mont Blanc pen. Hy glimlag van oor tot oor. “Lekkerrr, nou het ek julle! Kom ons handel dit nou een vir een af.” En wie lag die laaste … alweer? … Jan Taks!
46 Allegro
Die gehoor is vasgenaal, tuxedos en die halsnoere glim dof in die donker. Lydia hoor die viole wat die mooie musiek optower. Die vyf tjellos sit agter die groep en gee stadig die basnote. Sy sit heel voor en haar lang wit rok hang op die vloer. Johan fluister vir haar terwyl hy die stokkie swaai. Sy grys lokke wip op en af en Eine Kleine Nachtmusik weerklink soos wat sy skepper dit bedoel het. “Kom Lydia, so bietjie vinniger … daars hy!” Sy bloos want die groot gehoor kyk vanaand net vir haar terwyl haar oë oor die wonderlike note van Amadeus voor haar gly. "Wie was hy eintlik? Hy was maar vyf jaar oud toe hy van dit geskryf het, hoekom het hulle hom Amadeus genoem?" Wonder sy vir die soveelste keer terwyl haar regter arm op en af die strykstok laat gly. Johan lig sy arms hoër op vir die laaste hoogtepunt. Eers die Romanze, toe die Munuetto en nou die finale, die Rondo. Lydia en die violiste agter haar haal hul beste uit terwyl die tjelliste na hul voete kyk en konsentreer … en net toe gebeur dit … sy staar in die duisternis, wat nou?
Dit word donker om Lydia, sy veg om by te bly, haar hande struikel en die vals note weergalm teen die dak. “Wat is dit nou Lydia?" fluister Johan. Sy sak in mekaar en die orkes stop stuk stuk terwyl die verdwaasde gehoor met mekaar fluister. Die keer is daar geen applous, geen encore, net verdwasing.
Die ambulans kom en hul dra haar uit, sy haal nog asem maar dit is al. Die luiende sirenes weergalm in die nag ...
Johan en die hele orkes, haar vriende en ander staan angstig en wag by die intensiewe eenheid. Pieter le Roux kom haastig uit, sy stetoskoop in sy regterhand. Almal stap bekommerd nader, “Dokter, wat nou?” Hy kyk na net een persoon, daardie een wat Lydia alleen gebring het waar sy vandag is, hy hou haar styf vas en die trane loop oor hulle wange toe hy die nuus moet oordra. "Mamma ... sy is wel baie vroeg maar weeg al 'n mooi 2.3 kilogram. Sy het jou pragtige blou ogies. Ek en Lydia het net daar besluit sy gaan mamma se naam kry want ons gaan haar Annemarie Amadeus le Roux doop!”
47 Verdwaalde Koeël
Die klank van die gebreekte glas laat haar in haar spore stop. Lydia kyk bang oor haar skouer ... Dit is donker in die straatjie waar oupa en ouma woon. Die bome wieg in die winterwind, dis koud. ’n Enkele hond knor, maar sy kan nie sien waar dit is nie. “Boela?” roep sy, maar net enkele ʼn tjank kom dofweg deur die blare. Lydia word baie bang, iemand is op loer, iemand wag haar in hier by haar Ouma en Oupa se huis, iemand weet sy is terug. Lydia, die fyn klein vroutjie met die blonde haartjies wat van kleins af ʼn vuurhoutjiedosie van die hekpaal kan skiet. Sy het vele kompetisies gewen, tot eendag die oproep met die vreemde aksent aan die ander kant. “Are you Lydia?” “Yes ... who are you?” “For our purposes, you may call me Benjamin, we want to talk to you, when?” Sy sluit by hulle aan, die laaste een wat ooit verdink sou word. Haar werk kom as opdragte uit Tel Aviv via New York in Hebreeuse kodewoorde. “Lydia, we want you in Beiroet, tomorrow, corner of ... and ... take him out ... ” Die wêreld word haar huis, die pak paspoorte van vele nasionaliteite word haar etiket. Sy doen haar werk met oorgawe, die piep klein 9 mil in sy plastiekdop haar enigste gereedskap.
Dit is New York en Times Square, die konfooi ry verby, die teiken waai vir die skare. Lydia is op die agste verdieping, sy korrel soos altyd net bo die neus van die vrou, sy trek die sneller.
Dit is 'n klein gaatjie met kordiet rondom waar die koël ingaan, waar dit uit gaan word die inhoud verpletter teen die motor se deur. Die vrou kyk met ongeloof na die verminkte lewelose dogtertjie op haar skoot. Die bloed spat oor haar wit rok ... Lydia gooi die pistool in die Hudson rivier, sy hardloop en hardloop die nag in. Sy kom tot haar sinne, vlug en vlug en vlug tot by Vaalwater, tot by Oupa Kobus en Ouma Madeleine. Net hulle sal weet wat nou, net hulle sal kan keer ... Sy stoot die deur oop, die twee bebloede lyke tuur na haar met lewelose oë. 'n Groen vlag met die half maan bedek Boela ... Sy weet presies wat om te doen. Sy breek die punt van die kapsule af, sluk net een keer, dit is smaak soos hulle haar geleer het dit sal wees, die smaak van ... sianied.
48 Die Bloutrein
“Ek is speurdersersant Van der Linde en dit is konstabel van Vreden. U is ... ?" vra die groot man toe die kompartement deur oop skuif. Lydia van Vreden loer bang onder deur Sersant Koos se arm na die bloed wat van die banke afdrup ... “En nou ‘sant?” Sy kyk verskrik na die plas bloed wat op die vloer groei. Die Bloutrein skommel rustig op sy spoor, dis middernag en die volmaan skyn helder oor die Karoo vlaktes. Koos gaan stadig op sy knieëe, kyk diep in die lewelose oë van die blonde meisie. “Lydia, gaan vang die bliksem, nou!” Koos hou haar bewende arm vas, “Ek gaan agter toe en jy vorentoe!” Sy draf in die helder verligte treingang af, van wa tot wa, sy luister, sy vorder tot heel voor. “Wie is die meisie, wat het gebeur, hoekom, hoekom?” wonder sy. Daar is ʼn klik geluid ... sy staan tussen die twee waens, die trein swaai rustig heen en weer. “Jou bliksem! Ek het jou!” Die kompartement deur skuif oop en daar staan dit, 'n dwerg, die are bult in sy nek, in sy hand die dolk, bloed drup van dit af. “Roer net en ek vermoor jou en gooi jou by die deur uit! Susan moes boet vir wat sy aan my gedoen het en jy is tweede!” Sy voel ʼn vreemde kalmte oor haar kom, “Meneer, wat het Susan aan jou gedoen ...?” “Fokkol met jou te doen!” "Meneer praat met my, ek kan jou help ...”
Hy gaan op sy kniee, die dolk rol oor die vloer en hy snik. Lydia, hou die huilende dik mannetjie vas, sy droog sy trane en sy wonder, “Hoe nou?”
Voor Koos op die vloer van die gang van die Bloutrein sit die Lydia van Vreden wat die snikkende dwerg vashou. “Kom meneer en Lydia, kom na my kompartement.” Koos buk, tel die bebloede dolk op en met beide hande hou hy die dwerg vas tot in die kompartement. Hy sluit die deur. “Meneer, wat is jou naam?” Die dwerg kyk na die vloer en bewe. Hy stotter, maar sukkel om te praat. “Neem jou tyd, praat met ons, ek en Lydia kan jou dalk help.” “My naam is Pieter, oom ...” “Nou Pieter kom begin by die begin, vat jou tyd.” “Oom ek is gebore in Volksrust, ek is ʼn dwerg, almal het altyd met my gespot, maar ek wou hulle wys. Eerste in matriek gekom, A simbole vir alles, maar toe wil Tukkies my nie plek in Sonop gee nie. Dis waar my pa en almal was.” Hy bly lank stil. “Sonop is net vir die mooies, en hulle redes was vaag en dof. Toe bly ek by ʼn tannie in Menlopark in die Wendyhuis in die tuin. Die reël was, niemand mag my sien nie, sy skaam haar vir my. Ek het geen maats gehad nie, niks. Al wat ek kan wys is my BComm en my LLB. Oom ek is ʼn advokaat maar die prokureurs stuur geen werk vir my nie, alles gaan na die Sonop old boys toe en hulle dink steeds ek is dom.” Toe kom Susan, 'n prokureur wat vir my stapels werk gee, ek maak baie geld, koop vir my ʼn Jaguar en ’n huis in Silver Lakes. Lydia is altyd daar, sy ken almal en toe verander ons my testament want ons gaan trou.”
“Ek is lief vir haar, sy is alles in my lewe, maar toe ons het gister op die trein geklim toe val die papiertjie uit haar handsak, ‘Johan, ek is vasgevang met die kabouter, maar moenie worrie, vanaand val hy uit die trein, al sy geld is myne en ek kom reguit na jou toe. Jy is myne vir altyd!’ ” "Toe oom, toe neem ek die dolk en wag tot sy slaap, ek het haar eerste in die nek gesteek, want sy moes die pyn voel en my sien, toe sy gil in haar tong en toe maak ek haar stil met die dolk in haar hart ...” “Oom arresteer my, ek sal skuldig pleit ek weet hoe dit werk.” Lydia sit en huil, Koos sit lank stil en dink. Na wat ʼn ewigheid voel, “Pieter, Lydia kyk vir my ...” Koos sit sy dik sterk arms om albei, huil saam oor die lewe se wreedheid en toe, “Kom ons maak die kompartement skoon, die lyk sal hulle oor ʼn week eers dalk ver buite De Aar kry, maar die jakkalse sal ons help. Pieter, begin oor ... jy kan dit doen ... ”
Voorwoord: Geinspireer deur Agatha Christie se “Murder on the Orient Express”. Dit staan op sy eie en jy kan dit so lees. Dit verwys na die wrede seining dat dwerge dom is.
49 Die swaard van ʼn Held
Prins Ormild staar moedeloos na die reuse kasteel hoog op die sneeu bedekte berg. Hy wonder, “Hoe gaan ek dit reg kry om nog vandag die aaklige Leviathan se keel af te sny en betyds vir die dans te wees? Wat bedink Graaf Rasmud? Wat as hy ook vanaand ʼn ring bring en die keiser sien dit? Wat gaan Prinses Ariana dan doen? Is sy regtig lief vir my?” Maar waar is Leviathan dan vanoggend? Almal het seker gevlug vir hom en dit is verlate. Ormild trek sy lang swaard stadig uit. Dit is vlymskerp geslyp aan beide kante, maar sal dit genoeg wees om Leviathan te keer? Hy is so bang. Intussen sluipend van boom tot boom, draf Rasmud. Hy maak seker dat Ormild hom nie sien nie. In sy hande die nuwe uitvindsel van wysgeer in die donker land ander kant die berg. Dit gooi swaar lood stukke hoog en ver! As hy net naby genoeg aan Leviathan kan kom dan kan hy hom mos dood gooi! Ormild sal weggejaag word en ver ewig verban wees. “Ariana sal myne wees en ek word die keiser as die ou man doodgaan. Die lewe is ʼn lied!” Ormild kruip teen die berg uit, hy is seker hy het iets gehoor. “Is dit dalk Leviathan wat wakker word?” Rasmud sien Ormild van ver en maak seker dat hy agter die bome bly. Toe gebeur dit! Die takke kraak en rookwolke styg op en daar staan hy! Leviathan! Sy reuse skurwe pote kap op die grond, hy strek sy lang nek ver uit en blaas vuur! Dis net vlamme en rook waar jy kyk. “Wie gaan ons red ? Wie gaan ons van die bose bewaar?” Rasmud draai stadig om en kry sy wonderlike wapen reg, hy sit die loodbal in en stadig haal hy oor terwyl hy mooi presies tussen die oë van die monster korrel. “Die oomblik van glorie is myne!”
Maar, toe die monster buk skeilik en die loodbal trek bo-oor sy kop, dit storm op Rasmud af! “Attaque!” gil Ormild en hardloop na die monster toe. Sy lang swaard blink in die oggend son ...
Al die kerse brand, die viole speel saggies, die lang tafels is gedek vir die edelmanne en hul vroue met lang rokke en pruike. Hul stap stadig in, en kniel voor die Keiser en die Keiserin. Hulle gaan sit, maar daar is drie stoele leeg .... Prinses Ariana sweef die vertek binne, ses meisies agter haar wat die sleep van die purper rok dra. Sy buig voor die keiser en keiserin en fluister, “Dankie mamma en pappa vir die mooi aand!” “My kind, vanaand sal jy moet kies, net jy kan dit doen,” fluister die keiserin. En toe, ses mans met ʼn draagbaar, hul dra ʼn gewonde man tot by die keiser. Bloed drup op die vloer ... “U hoogheid,” sê hy, “my lewe lank het ek foute gemaak, ek was ʼn slegte mens wat vandag vir julle wou wys dat ek die beste is. Alles het verkeerd gegaan en die monster was op my. Toe kom die held van nêrens en verslaan die monster, hy red my lewe. U hoogheid, die mooiste vanaand sal wees as hy die ring vir Prinses Ariana kan aansteek en as hy langs u kan sit. Hy is ʼn held!” Almal staan op en juig hom toe, die deur gaan oop en stadig stap hy in, sy purper kleed sleep agter hom en die juwele in sy donker blou hooftooisel glim in die lamplig, hy omhels die gewonde ... hulle snik in mekaar se arms, “Jy sal altyd, altyd my grootste vriend wees!” Hy kniel voor Ariana en steek die ring aan. Sy fluister, “ek is soo lief vir jou, my Ormild!”
50 Die Koeël is deur die Kerk
Geïnspireer deur Deon Meyer stories, eie ervaringe in die SAPD en veral die “Tekkie Squad” waar ons eers skiet en dan dalk praat. Dr de Swardt, my veearts, “ons is genadiger met ons pasiënte as dokters ...” Opgedra aan Vader Ed Dexter vroeër van St Paulus, Pretoria, Aartsbiskop George Daniel, uit Europa en wat ons taal praat en Elizabeth Schiller van Berlyn, moeder owerste van die Bronkhortspuit Vigs Kinderhuis. Hulle het my geleer wat beteken, “om my naaste lief te hê.”
Die moordenaar sluip van boom tot boom. Al die Rottwielers is uit die pad, die sekuriteit gesaboteer. Breek die ruit en klim vinnig in en saggies af in die gang. Dit is drie uur en almal slaap. Ook die teiken, die .22 en knaldemper gereed, mik tussen die oë ... Alles verby, die moordenaar haal ʼn dowwe liggie uit om seker te maak die projek is suksesvol voltooi, sien weereens die klein gaatjie met die kordiet om dit, die lewelose blou oë en toe, “NEEE!!!”
Dit is op elke lamppaal van die Star tot die Son, van die Beeld tot die Burger, “Reeksmoordenaar se 35e slagoffer, kind (3)!!” Almal is daar in Caledon Plein van Moord en Roof, Forensies, Tekkie Squad tot die uniform ouens. Kommissaris October maak keel skoon, “Sit maar mense ... ons het groot moeiikheid, dis ʼn media sirkus en generaal Phiyega moet vandag voor die parlement verskyn. Ons moet nou iets doen!” Nege en veertig koppe draai in een rigting, “Koos, asseblief, jy het alles gesien ...” Majoor Koos van Wyk, amper sestig, stap stadig vorentoe en kyk na die vloer. “Kommissaris, ouens, dis uit die hart, kan ek maar Afrikaans praat? Nou weet ek
regtig nie, daar is bykans geen patroon, niks. Al die 35 slagoffers in rykmansbuurte, amper almal middeljarig maar nou die kind, altyd dieselfde .22, hoekom?” Koos sluk swaar en kyk na sy makkers, “Kommissaris, my tyd is verby, jy sal môre my bedanking op jou lessenaar kry.” Hy sit sy pet op, kyk na die saal, vir daardie een keer in baie jare wanneer groot manne openlik saam huil. Koos stap uit, vir laas ...
Patrick lees die nuus, hy word baie bang, dink aan sy 35 jaar in hierdie mooi land sedert hy Dublin gegroet het, hy dink aan die sagte wonder taal waarin hy nou sy gedigte skryf. Soos altyd sluit hy die stoorkamer deur oop en wag. Dit is pikdonker, die moordenaar staan vir laas voor die klipkerkie en lees die woorde in die graniet gekerf, “Holy Trinity Church St Alban. Resident priest, Father Patrick O’Neal.” Die moordenaar glip by die stoorkamertjie in, sluit van binne en gaan soos altyd na die biegkamer waar Patrick reeds wag. In die kerslig wys sy wit hare en boordjie, die donker rooi toga ... soos altyd. Die moordenaar huil en huil ... Patrick se arms omvou in liefde. “Vader, sy was net ʼn kind, hoe nou? Vader ek gaan myself skiet!” “Kom saam,” Patrick hou haar styf vas en tot by die groot houtkruis. Hulle kniel op die gebede kussings, “Dierbare Vader, Seun en Heilige Gees. Dierbare allerheiligste Moeder ... vandag het by julle in die hemel Christine aangekom, ek weet sommer sy het ʼn wit rokkie aan en spierwit vlerkies. Die ander 34 lag saam met haar, hulle jubel U groot naam in dankbaarheid, dankbaarheid vir wat Lydia vir hulle gegee het!” Hy bly lank stil, “Lydia, John het die nuwe knaldemper en nog 200 rondtes gebring soos hy belowe het. Gaan doen nou jou werk, ek het al weer tien op die bestelboek, geen kinders die keer.”
Hy kyk lank in haar oë, “Lydia, net jy doen dit, net jy bring bevryding vir soveel, net jy gee die ... genadedood ...”
51 Die grootste offer
Opgedra aan my mede konstabels van die Brooklyn Stasie, die Honde Eenheid en ook die Tekkie Squad. Julle was my professore in die Universiteit van die Lewe.
“Nie ʼn enkele leidraad nie, Sant. Trust my, ons het die studeerkamer gestrip, gesearch en wragtag waar elke nook en cranny gecover. Dit was ʼn slimme bliksem wat hier ge-operate het Sant ...” “Ai tog oom Koos,” dink sersant Piet van Wyk terwyl hy na die klein outjie met die blonde hare kyk, “het altyd mos die kat aan sy stert beet en dis hoekom hy op 54 die oudste konstabel in die Mag is ...” “Oom Koos hoor nou mooi hierso, oom kan nie net instorm nie en goed rond gooi nie, ons moet vir Forensies wag!” Dis dan gewoonlik net hier waar Koos sy ware kleure wys, hy kyk op na Piet. “Luister Pietman, jy mag ʼn sersant wees, ses voet ses lank wees, maar ek en jy weet jy is nog nat agter die ore. Laat ek nou vir jou vertel ...” Koos babbel voort en Piet maak maar asof hy hoor. Als is opgeneuk en hy sal weer by die majoor moet gaan verduidelik, ai tog ... Net toe gebeur dit toe hulle dit die minste verwag, uit die kombuis, “Ghwaaaa!” “Koos, wat is dit nou?” “Piet, staan stil laat ek gaan kyk,” Koos stap tree vir tree na die kombuis deur, sy 9 mil oorgehaal, hy verdwyn om die deur.
Die dik arm kom van nêrens, die koue lem is teen Piet se nek en die bloed begin drup op sy hemp ...
“Staan doodstil jou blou bliksem!” fluister die stem in sy regter oor. “Nee wat, hier is niks, Sant!” bulder Koos uit die kombuis en stap terug. “Wat gaan hier aan?” skreeu hy. “Een tree nader en ek sny sy keel af nes ek met Nellie gedoen het!” Koos vlieg letterlik deur die lug hy, hy duik vir Piet en die aanvaller plat op die grond. Hulle rol en rol, die dik getatoeerde arm hou die mes bo Koos. Koos spartel, Piet steier op sy voete maar te laat, die mes sink diep weg in Koos se hart, weer en weer. Piet gryp na die Parabellum, hy skiet die magasyn leeg. Bloed en nogmaals bloed ...
“Ons lê ter ruste vandag vir konstabel Koos Louw ...” die kapelaan snik, “Koos was my beste vriend, ek is soms so alleen en dan was hy altyd daar ... ” Sersant Piet van Wyk staan effens eenkant, hy kyk na die verwese mamma en haar twee blonde dogtertjies by die graf, hy huil en huil ...
52 MEER of MIN
“Kom klas, word nou stil en luister mooi!” Juffrou Nereida maak haar stem dik en die meisies word een vir een stil. “Welkom by ons klas, julle sal by my leer hoe om eendag jou werk goed en reg te doen … ek praat en julle luister!” Adella, Briza en Sirena sit styf teen mekaar, “Ja Juffrou!” Eenkant sit so ʼn lelike meisie. “En wat is jou naam dogter?” vra juffrou. “Dis Nessie en niks met jou te doen nie!” skree sy terwyl haar dik magie op en af wikkel. Juffrou kyk net ander pad en begin, “Dogters, julle is nou mooi groot. Die eerste wat jy moet verstaan is dat alles wat leef het mannetjies en wyfies, mans en vrouens, koeie en bulle, hane en henne en ook ramme en ooie. Net ons is anders, ons is net meisies. Daarom hoef ons nie hemde te dra nie.” Die drie maatjies kyk weer na die pragtige juffrou en kyk skaam na mekaar. Hulle bloos dat tot hulle oortjies rooi word! Nessie sit eenkant, haar arms oor dit gevou asof sy iets wegsteek. “Nou dogters, ons het werk, ons moet help waar dinge sukkel en mag net verskyn as alles verkeerd gaan. Ons verskyn net as dit skemer is en ons werk altyd twee - twee saam. So, Briza en Sirena julle is ʼn span en sal die noordelike gedeelte diens terwyl en Adella en Nessie vir ons die suidelike area sal hanteer.” Adella gee vir Nessie ʼn lelike kyk. Nessie voel die trane in haar ogies want sy moet vir altyd weggaan van haar maatjies want hier by ons stry jy nooit met die juffrou nie, jy doen jou werk en bly maar net stil. “Kom jong, ek is nou met jou opgesaal, jy is duidelik hopeloos, en ek sal seker alles moet doen. Kom laat ons gaan werk!” gil Adella.
“Adella, asseblief, wat pla jou?” “Ag man bly stil, ek het nie tyd vir julle tipes nie!” “Adella, ek sal luister praat maar net?” “Vergeet dit, kom laat ons weg wees voor die son opkom moet ons ver van hier wees.” Hulle vertrek en so vinnig as hul kan en gaan tot waar juffrou hul heen gestuur het, Kaappunt. Dit is nog pikdonker, “Adella ...” “Ja Nessie?” “Ek is jammer dat ek so lelik met jou was. Almal spot met my want ek is nie so mooi soos julle nie, ek wil ook maar help maar hoe?” Adella gly nader aan Nessie, hulle is op die groot rots en die hoogwater se sproei spat oor hulle. “Nessie, jy is slim en jy gaan al die verskil maak. Sit saam met my nou doodstil want hulle het ons nodig. Ons moet nou ons bes doen anders gaan almal sterf …” Hulle hou mekaar styf vas, hulle is so bang en die trane loop oor hul wange.
Die groot skip kom reguit na die vuurtoring, die Suidoos waai verskriklik. Kaptein Ferguson roep hard, “Manne ons het moeilikheid, die stuur haak vas, laat sak die reddingsbote!” “SOS ... SOS ... SOS ... mayday, mayday, ons gaan strand!” roep stuurman John oor die radio. Skielik is daar ʼn doodse stilte, die wind gaan lê en die reuse olietenkskip draai vanself stadig om en weg van die land! Die bemanning staan verwonderd oor die rand van die dek. “Ons is gered!!”
En toe, van bo uit die stuurkajuit, roep John, “Kyk daar!” Almal hardloop en sien dit wat net eenmaal in 'n eeu gebeur ... … Die bemanning draf nader, skielik daal daar 'n doodse stilte op die skip neer want ... daar op die suidpunt bo-op die groot rots en dof in die skemer lig is die mooiste wesens wat hul hande hoog opsteek, iets wat ons net van kan droom, daardie twee wat kon red toe alles verlore is. ... Adella laat haar voor sit sodat almal haar mooi kan sien ... Nessie die pragtigste meermin ...
Die name van die meerminne van nameberry.com
53 Ek wou Slange vang!
Ses veilige stappe om van 'n Kaapse Kobra ontslae te raak.
Net gister daar langs die posbusse van ons kompleksie wriemel die meneertjie. Al 'n goeie twintig sentimeter lank met bak koppie en al. "Help!" gil ek en soek 'n lang stok om hom bloedig na die slanghel te stuur. Kalmte kom oor my gemoed, hy is ook net 'n mooi dier, hy is ook soos ek en jy maar bang ... hoe dan nou? Die vuilgoed blikke! Grou daarin en kom te voorskyn met 'n Steers take away boks. Jy weet, daardie plat dubbel burger ene. Korrel versigtig en "woepsie!" daar val dit bo-op die kwaai outjie. Volgende gereedskap is een bladsy uit Saterdag se Weekend Argus. Die Sport gedeelte werk altyd die beste. Jy vou dit plat op die teerpad en skuif dan die Steers boks stadig maar seker oor dit. "Het jou!!" Stap toe deur die kompleks met die wriemelende konkoksie. Al die bure vra, "Wat het jy daar?" "Kaapse Kobra!" "Ag jy lieg man!" Oor die straat en ver en diep in die veld in. Sit als versigtig neer en kry 'n lang stok. Roer die konstruksie en daar spring die oukie uit, bakkoppie en al! Hol dan weg om jou lewe te red en bleddie vinnig ook. Gaan dan later versigtig terug om die rommel te gaan opruim en 'n saluut te gee. Aan wie? Dom vraag ... Steers natuurlik!
Om toe later kon gaan slaap en tog te weet ek kon 'n klein dingetjie doen om iets so mooi te bewaar ...
54 Weemoed in die Feesgety
“Toe maak vir julle vas, dis anders as om in die dorp te ry!” “Jaa Paa ... ” Sukkelend kry die drie outjies die gordels vasgesteek. “Lydia, het jy vir Jan die sleutels gegee?” “Oeps! Ek vergeet. Toemaar Kerneels kan maar vir die twee weke paar muise gaan vang. Hy sal oorleef. Het jy die geyser afgesit en die stopkraan toegedraai?” “Bliksem! Ek het dit ook vergeet. Aag wat, hulle sê mos dis beter so want dit vat mos meer krag om die ding weer warm te kry.”" "En het jy onthou om vir haar airtime op te laai?" "Dit ook nog! Ag nee wat vir twee weke sal ek aan geen outobank of die stupid internet kom nie. Vergeet dit!" Die lig slaan groen en die Prado se ses silinders grom gerustellend toe Koos sy voet laat sak op die pedaal, "Buffelsbaai hier kom ons!”
Karolien is vroeg op, sy steek die kers aan en trek haar gou aan. Die ander wag seker al. Ons stap altyd saam na die taxis want mens weet nooit wie jou hier kan by kom nie. Sy stap vinnig tussen die hout huisies. Daar staan Erina and Nongena al en wag! “Nongena, molweni! Goeie dag Erina!” Hulle klim in die High Ace, dit is stampvol al en die dames gesels luidrugtig. Gaan maar net oor een ding, “wat moet van ons kleintjies word?” Nog voor ses is hulle al by Gugulethu se stasie. Mense staan by die honderde, “Wat gaan aan?” “Eskom het die krag af gesit en nou is al die treine laat!”
Die drie gaan sit maar en gesels. Dit voel soos ʼn ewigheid to Metrorail se fluitjie blaas. Nou na Soutrivier, dan Bellville, dan die Golden Arrow bus tot in Durbanville en weer die High Ace tot naby Mevrou se huis. “Ouens, ek mag nie laat kom nie, Mevrou het klaar gesê sy gaan my afdank.” “Was Capitec en African Bank se mense ook gister by julle? Hoe gaan ek hulle ooit betaal? “
Dit is amper half nege, Karolien is baie bang want wat gaan Mevrou sê? Sy lui die klokkie. Daar is niks, net die gemmer kat slapend op die voorstoep tussen 'n hoop tortelduif vere. Sy lui weer en weer. Sit en wag, dit word twaalf uur en sy stap die drie kilometer terug na die High Ace staanplekke ... hoe gaan sy die reis terug betaal?
Koos sit op die strand en staar na die spelende kinders oor sy groot maag. Lydia lê en is vas aan die slaap, hy sug diep ... Hy vat sy volgende sluk sommer so uit die bottel, Carling … Carling Black Label …
55 Boela se wraak
Julle sal my nou nie glo nie maar toe Koos daardie dag die Range Rover met sy een hand in die lug hou toe sê hy, “Kom ouens kry daai wiel nou omgeruil, ek kan nie my pyp met net een hand stop nie!” Dis Maandag en Adéle is nou net weg werk toe. Boela lê in die oggend winter sonnetjie, na 'n heerlike ontbyt, spek en eiers nogal en hy dommel in vir sy oggendslapie. Nou dit! Hy kyk gesteurd op. Hier reg voor Adéle se huis, ʼn Bloedrooi Range Rover, met die registrasie nommer, wat pryk op beide buffers, “EKSRYK GP” “Ag nee, net nie dit nie,” dink hy, “weer daai Mooikloof tipes wat hier kom moeilikheid maak.” Koos staan met sy een hand bo die pap wiel en in sy ander ʼn vroeg oggend Black Labeltjie. Boela se nek hare rys, hy het nou net genoeg gehad. Jy sal my nou nie glo nie, maar onthou Boela kan mos enigiets doen. Hy staan staaadig op, skud hom self twee keer, sy bruin stert reguit agter hom en hy maak se stem dik, “Grrrrr....” en kom stadig dreigend nader. ʼn Ou wil nou nie sommer byt aan hulle nie, mensvleis smaak iedergeval sleg, maar die geraas hier in die mooie oord is nou net een te veel. Boela gaan staan agter die Kareeboom, dit is tyd om iets te doen dat hulle nooit ooit weer hier kom nie ... “Wag,” dink die ou, “ek het dit!” Boela, grawe in die grond, hy grawe en grawe en grawe, 4 voet wyd, sewe voet lank en ag voet diep. (Soos jy natuurlik weet, gebruik Boerboele net die imperiale stelsel.) Hy sluip in die langgras, en bou vir homself ʼn maanhaar van Kakiebos en sit ʼn
klos van beesmis agter aan sy stert. Hy sluip tot naby die Rover. Niemand kom iets agter nie, hulle staan net daar en raas, drink Black Label te lui om die wiel om te ruil. “BRULLLL”, skree hy en loop nader nes ou Kat-astrofe altyd doen as hy 'n muis bekruip. Koos, Jan en Sarel kyk verbaas op. “Leeu!” gil Koos en al drie hardloop teen die spoed van wit lig en val binne die graf wat Boela vir hulle gegrawe het! Al wat Boela nog hoef te doen is om die graf toe te gooi. Adéle kom huis toe en sien drie koppe wat uitsteek en skaars hoorbaar mompel, “Heellp, Heellp!!”
56 Die vark in die verhaal
Hallo maatjies!
Elke jaar die tyd roep die Feëkoningin mos al die nuwe feetjies bymekaar. Almal buig diep en gaan sit en sy maak haar keel skoon, “Welkom hier vandag in die paleis liewe feetjiemaatjies. Soos julle weet, leer ons vanjaar om rêrige feetjies te wees sodat ons alles om ons mooi kan maak.” Sy kyk op en af en sê toe, “Vir nou gaan ons by die diere leer en elkene sal vir haar ʼn dier gaan uitsoek met wie jy dinge gaan leer. Hoe om boom te klim, hoe om weg te kruip en waar om lekker kossies te gaan soek. Toe weg is julle!” Sannie se koppie dwaal mos en sy hoor weer net die helfte. Die ander feetjies vlieg op om die oulikste diertjies eerste op te eis. Normatjie natuurlik die koala. Terwyl kort op haar hakke Ingridjie, wat met haar armpies om die steenbokkie staan. Die eekhoringkies, koedoetjies en baba leeutjies almal opge-eis en toe Sannie wakker skrik, wat bly oor? Net Borra ... ai toggie net nie dit nie, die lelikste diertjie in die hele woud ... Sannie is nou met hom opgeskeep en sy is sommer vies vir alles. Die ou kan nie eens praat nie, hy snork mos net! Hoe ook al, sy en Borra stap toe maar daardie dag in die woud toe die vreeslikste ding gebeur. ʼn Groot gat val in die grond onder hulle en daar val Sannie en Borra! “Helllppp, helllp” gil hulle. Haar vlerkie breek af en sy kan nie eens vlieg nie. Maatjies, wat dan nou? Gelukkig is daar onder ʼn klomp blare en hulle val darem nie te seer nie. “Borra! Borraa! Praat met my!” “Ughhh!” snork die lelike outjie net.
“Wat nou Borra? Wat gaan van ons word?” Borra skud sy dik koppie ’n paar keer en kyk lank en diep na Sannie, “Liewe Sannie, jy was al een wat vir my omgegee het, ek sal na jou kyk, moenie bang wees nie. Ons gaan vandag hier uit kom ek belowe jou, afvlerkie of te nie!” Maatjies julle sal my nou nie glo nie, Borra, met daai lelike tande langs sy mond en al, begin ʼn tonnel grawe! “Kom Sannie!” Hy grou en grou en grou en die arme Sannie kruip in die donker gat, alles vol modder, agter hom aan. Dit voel soos ure en toe, “Borra! Kyk daar, daar is ʼn lig aan die einde van die tonnel!” En daar, ek weet julle sal my nou nie glo nie, grawe Borra sy tonnel en hulle klim reg voor die paleis op die koningin se grasperk uit!
Die seremoniemonster, ou Dracus, blaas sulke vuurtonge deur sy neus en staan op. “U majesteit, liewe feetjies en diere maatjies. Welkom by ons jaarlikse goue ketting oorhandiging." Die feëkoningin stap op, haar lang purper rok te mooi en in haar hande die groot goue ketting. Norma met Koos die koala en Ingrid met Sarel die steenbokkie maak hul reg vir die groot oomblik ... maar ooo neee ... “Ons toekenning vir dapperheid en die een wie mooiste dinge vir ʼn nuwe feetjie geleer het gaan vanjaar aan ... sit julle vlerkies en pootjies bymekaar vir ..." Sy bly lank stil en toe ... "vir BORRA die vlakvarkie!”
57 My Pa is ʼn Koning
Hy is spesiaal, saam met ons ander groot held, die VW Kewer ook in 1939 gebore. Hy is jonk van gees en stuit vir niks, hy het ons deur moeilike tye ondersteun en ons sal hom altyd vereer.
Koos sug diep, tuur lusteloos na die boek voor hom en die vreeslike hoofstuk sewe, “Logaritmiese verhoudings in vergelyking tot die priemgetal” Hy weet dis sy laaste kans want opgefrommel op die vloer die brief van die ur homself nogal, “Meneer van Wyk, hiermee stel ons u in kennis dat as u Wiskunde II nie slaag nie, u verdere toegang tot hierdie instelling van hoër onderwys geweier sal word, die uwe ...” Al die manne is vanaand in Tollies en hier moet hy nou sit, "Dis nie fair nie!” Hy sug weer diep toe, “Koos! Hier is jy, ek soek oral vir jou!” Dis ou André. “Kom man die ouens is lankal daar en al met die vierde rondte besig en hier sit jy in die Bib? Wat gaan aan? Is jy siek?” Koos kyk lank hartseer na Andre, “Ou maat, my kop is op die blok, ek moet eenvoudig die stront nou probeer verstaan anders is dit moer toe met my.” Andre trek sy skouers op en loop sonder ’n woord uit die studiesaal. Koos kyk moedeloos na die graffiti wat vele ander slagoffers voor hom daar teen die hout muur uitgekerf het. Hy dink aan sy jare in Abraham Kriel, om alleen te wees. Die vreemde mense wat hulle vir naweke kom uitneem het. Die vatterige tannies en nog erger die ooms ... Koos weet hy mag nie, maar hy droog sy trane af, steek sy hand diep in sy tas en haal die plastiek botteltjie uit, hy loer versigtig dat niemand hom sien nie en vat ʼn lang diep sluk.
“Ahhh ... !” sug die arme ou. Die lieflike geur van Merlot gemeng met Carbernet vul sy mond en neus en die lewe maak weer sin. Koos maak sy boek oop vat sy pen en stukkie vir stukkie begin hy hoofstuk sewe verstaan. Koos werk soos ʼn galeislaaf tot daar in tikkie op sy skouer is. Dis Marthie die opsigter. “Ou Koos, jy moet nou oppak jong, dis al twaalf uur en ek moet sluit.”
Koos stap uit die eksamen lokaal, hy sweef twee meter hoog in die lug, hy weet dat die keer is dit gedoen en oor twee weke gaan hy sy graad kry! Hy draf Tollies toe, die manne sit en wag al. “Haai Koos hoe het dit gegaan?” "Ek het dit ge-nail ouens, die volgende is op my, gee daai rooi bottel hier!” Die volgende dag stap Koos weer by die Bib verby, sy gewete pla hom, hy sluip in, sit op sy gereelde plek. Hy haal sy Joseph Rogers uit en begin in die hout kerf, “ ... ʼn Ware pa skree mos nooit vir die Bulle nie, hy het my tot hier gedra, hy is my VADER ...” Die ou dink lank en weet dat hy dit hierdie les aan die groter wêreld moet uitdra, hy kerf mooi duidelik en vul dit met rooi ink:
“Tassenberg is koning, God Save the King!”
58 Kantoor Kapperjolle
Die lesse is uit die boek van Dale Carnegie oor leierskap, "Hoe om vriende te maak en mense te beïnvloed.” Almal in die kantoor kyk om, jy kan ʼn speld hoor val toe hy weer grom, “Bliksems!” “Nou wat gaan nou weer aan, Christo?” vra Landi met die mooiste glimlaggie terwyl Mariëtte haar aan gluur. Christo ignoreer hulle en maak seker of hy reg gelees het. Ja wragtag, daar staan dit, mooi in Afrikaans nogal met die maatskappy se briefhoof bo-op alles, die epos wat jy in jou lewe nie wil sien nie, “Meneer van Wyk, u word hiermee in kennis gestel dat die gebruik van ons sagteware verbode is om na die webwerwe www.kaalmeisies.com en www.rondeboudjies.net te gaan. Die stelsel sal dit voortaan blokkeer.” Hy kyk moedeloos na die kwitansie, ʼn hele twee duisend rand vooruit betaal vir onbeperkte toegang … Kobus weer kyk sugtend na, “Meneer Swanepoel, die webwerf facebook.com sal van nou af blokkeer word.” Landi se rompie skuif nog twee sentimeter op, sy glo aan net een ding, jy trek iets lank genoeg aan om alles te bedek en kort genoeg om die verbeelding los te laat. As die dom Kobus dit tog deur sy ronde dik bril kan raaksien! Mariëtte weer fluister vir Kobus, “die nuwe baas noem my mos ‘mevrou’ dalk is hy rêrig blind, hy kan mos sien my vinger is sonder ʼn ring.” Kobus knik net en dink, “Ja, ou dikketjie en so sal dit bly!” Hy kyk moedeloos na die kalender maar sy oë nou te moeg om enigiets te sien, “Landi, wat is vandag se datum tog?” Sy kyk vies op van die finansiële state voor haar, “Een April man!”
Die hoekkantoor se deur gaan oop, Sandra fluister, “Tjips, dissie baas!” Almal maak weer asof hulle werk, “Kan ek julle aandag kry asseblief?” Dikbek kyk hulle op. “Dankie dat ek met julle kan saam werk. Julle moet verstaan dat as jy van die fabriek hier na hoofkantoor kom ek maar so min weet en ook weet dat julle my mooi sal help.” Een vir een kyk hulle na hom. “Ek ken nou julle name, ek is net ou Bart en sal lekker wees as ons mekaar sommer so noem.” “Kobus? Jy is ons rekenmeester, is ek reg? Ek vertrou jou dat alles seepglad sal loop en indien nie dan help ons mekaar. Reg so ouens?” Een vir een kyk hulle na hom en Landi dink, “wat ʼn mooi ou, wonder of hy getroud is?” Bart kyk na elkeen, “My kop dwaal maar want ek loop heeldag en dink nuwe goed uit. Jammer ek is maar so en ek het julle so nodig om my op die reguit pad te hou. Dankie dat ek julle kan vertrou.” “Een laaste dingetjie, kan ons almal elke Maandag bymekaar kom om die week raak te vat. Die eerste ding op die tafel sal wees om die grootste flop van die week te kom vertel!” Hy buk en wat kom onder die tafel uit? ʼn Illovo gouestroopblik met koper ore gemonteer op kiaathout! “Dis ons flop trofee van die week, die ou wat dit wen kry daarmee saam ʼn restaurant bewys vir twee by Osondos onder in die straat. Ek wil dat ons moet weet dat foute is krities want so leer ons. Net een waarskuwing, om my hiermee te wen, vergeet dit!” Die hele groep behalwe Mariëtte lag lekker. Sy dink, “Hy fake, ek weet dit, dis net weer ʼn flou een April storie!”
Dis te vrolik en almal is snaaks aangetrek. Mariëtte is deesdae rietskraal en het 'n rooi kersvader pak aan! Kan jy dit glo?
Die kersfeesboom se liggies skitter en daar is ʼn mooi pakkie vir elkeen onder dit. Almal lag en gesels. Landi hang aan Kobus en Mariëtte se hand rus op Christo se been. Sandra is die seremoniemeester. Al wat nog kort is Bart. “Waar bly Bart dan?” vra Landi, “Ek het vir hom die mooiste geskenk gebring!” “Ek ook!” skree almal en die mooiste pakkies kom uit die winkelsakke. Die deur gaan oop en ʼn persoon stap in. Sy is formeel aangetrek met ʼn egte leer handsak. Sy kyk na die vloer. Almal word stil, “Wat nou?” “Dames en here, ek is Lydia Fouche, die voorsitter van die raad. Julle is die top kantoor van ons maatskappy en ek is so trots op julle … ongelukkig moet ek slegte nuus bring." Sy bly lank stil en hou haar hand oor haar gesig, "Bart is laas nag oorlede, die kanker wat hy al die tyd vir ons weg steek het, het sy laaste tol ge-eis …”
Die hele groep val in mekaar se arms, hulle huil en huil …
59 Om jou ore aan te sit
Opgedra aan die Tygerberg Hospitaal waar hulle aan wonderwerke glo en dit laat gebeur. Opgedra aan die komponis van die Negende Simfonie, Ludwig von Beethoven en die uitvinder van die grammofoon, Thomas Alva Edison en ook aan Vicki Fourie wat hul verlies as wonderwerke aan ons terug gee.
Die reuk van laventel is skielik oorweldigend … Pieter sit in die hoek en kou vinnig aan die Spurburger en sliptjips. Hy kyk gesteurd op toe hy dit ruik … hy glo sy oë nie, die mooiste iets wat hy nog gesien het! Fyn, blou ogies en kort blonde haartjies, sy sit met haar rug na die vertrek en lees die spyskaart. Pieter skuif sy ronde dik brilletjie mooi reg. Hy kyk en kyk. En toe gebeur dit, haar beursie val op die vloer! Hy staan op en skuifel versigtig nader. “Verskoon my dame?“ Sy kyk nie op nie, en hy praat nou harder, “verskoon my!!” Steeds tuur sy net na die spyskaart. Hy skraap alle moed bymekaar en raak versigtig aan haar skouer. Sy kyk op en met die mooiste glimlag. “Ja meneer?” “Dame u beursie het geval, hier is dit.” “Baie dankie meneer! Weet jy wat is alles hier in, ID, lisensie, kredietkaarte en klomp dinge wat jou sal laat lag!” “Ek is so bly dat ek u kon help.” Hy kyk om en glo dit nie, Spur se mense het sy goed afgedek! Hy kap met sy voet op die vloer en roep hard uit, “Demmit!” “Wat het gebeur?” vra sy en kyk stip na sy mond.
“Hulle het alles afgedek en wat nou?” Sy bly ʼn rukkie stil, dink twee keer, “Meneer kom sit maar hier want die plek is stampvol, ek is slegte geselskap maar laat hulle vir jou ʼn glas wyn en ʼn nuwe bord kos bring?” Pieter bloos van oor tot oor. Hy is nie dit gewoond nie en skraap al sy moed bymekaar en gaan sit tog oorkant haar. “Ek is Pieter Louw … aangename kennis.” “En ek is Lydia Fouche.”
Koos loop by haar kantoortjie in, hy groet nie eens nie en plak die koevert op die tafel. Hy lag van oor tot oor en loop uit. Sy kyk verslae na die brief, “Mej Fouche, u en meneer Koos van Wyk is die enigste erfgename en kleinkinders van Mev Susan Volschenk. Die Volschenk Trustfonds is aan u twee bemaak maar met sekere voorwaardes: U sal gereeld voor mense optree en as berader dien in liefdadigheidsorganisasies soos wat meneer van Wyk lank reeds doen. Dit het onder ons aandag gekom dat u dit nie doen nie en derhalwe is aansoek ingedien by die Meester van die Hof dat alle bates na Mnr van Wyk oorgedra sal word. U het volgens Art 2643/51 van die wet ses maande kans om bewys te lewer dat u hier aan voldoen.” Geteken HP Fuchs BA, LLB. Swanepoel en Fuchs Prokureurs.
Sy het haar sielkunde graad maar werk soggens in die kerkkantoor van die krimpende gemeentetjie waar sy die boeke doen. Daar is geen ander uitkoms nie. Sy droom om voor mense te kan werk, te luister en hul te help maar u hoe kan sy? Dok Jan het dit net gister weer bevestig, “Liewe Lydia, die virus het alles vernietig ... al wat oorbly is ʼn moeilike proses maar dit gaan amper ’n half miljoen kos.”
Haar selfoon bewe aanmekaar, dis Pieter maar sy probeer nie eens antwoord nie. Toe kom die SMS, “Lydia, ek MOET met jou praat, wanneer en waar?” Hulle is terug in die Spur elkeen met ʼn glasie huiswyn, “Lydia, ek verstaan waar deur jy gaan, dalk kan ek help? Kom ons gaan praat met oom Frikkie hy is my oom en ʼn mooi mens.”
Frikkie sit sy stetoskoop in die laai, “Lydia, dit kan gedoen word! Ek en my kollegas by die Mediese Skool het gepraat en ons sal ons tyd verniet gee. Jy sal oor twee weke kom dan doen ons dit net! Al wat jy moet doen is toestemming dat die finale jaar studente kan kyk wat ons doen?”
Alles loop suksesvol en al die lelike elektronika is weggesteek onder haar blonde haartjies. Frikkie haal sy masker af, “Lydia, jy gaan eers geen verskil agterkom nie, en oor tyd gaan dit gebeur, dalk nie. As dit nie werk nie, dan is dit verby vir altyd ...”
Die lente bloeisels van die Jakarandas skitter blou in Menlopark maar vir haar het niks verander nie. Die golwe van moedeloosheid spoel oor haar. Pieter is al wat oorbly in haar lewe, maar vir hoe lank nog? Dis donker wolke begin in die namiddag saampak en maak reg vir die heerlike Staatsdiensreëns. Nog nog net twee weke oor voor daardie Fuchs en Koos haar lewensdrome vir altyd vernietig ...
Dis drie-uur die oggend en sy slaap vas, sy droom van die Negende Simfonie as die viole en die tenore die hemel aanraak. Sy sien die oudtydse gramofoon waaruit die suiwer klanke vloei. Kasper lê styf teen haar met sy gemmerstert oor sy gesig en spin van die lekkerte, toe gebeur dit … sy spring orent hou haar hande oor haar kop, die weerlig slaan verwoed, en die eerste somerreën stort op die sink dak ...
Sy gryp die foon maar die keer skakel sy en roep uit, “Pieter! Pieter! … ek kan hoor!!!”
60 Sneeuwitjie in die nag
“Kom ons twee gaan die kalfie soek, ons tweetjies, ek en jy … en ons moet niks versuim, want as die kalfie buite bly, sal hy vannag verkluim …” Die trane loop weer Lydia se wange as sy die amper tweehonderd jaar oue gediggie weer en weer lees terwyl sy oor die dorre landskap kyk. Hoekom nog so lank voor ons kan huis toe gaan? Elke dag is dit net slegter hier op Titan.
“Kry julle gatte in rat! Hoekom moet ek so met julle sukkel?” skree Jonathan voor hy die kajuitdeur agter hom toe klap. Die span kyk na mekaar, “Wat nog tog weer?” Jonathan word al meer ongeduldig, niks is meer reg nie en die span weet nie meer watter kant toe nie en buite dans die dorre klipkoppies in die vreeslike hitte. Lydia kyk maar weer na die tablet voor haar, “Sy voel nie meer die kou. Sy't al haar kleertjies uitgetrek, die Kleinbaas te behou!” Skielik gaan die kajuitdeur weer oop en Jonathan stap in. “Ons moet ons reg kry vir die ruimtegoewerneur en julle sit net hier rond. Ag nee man!” Lydia kyk na hom, “Maar Jonathan, alles is perfek reg, ons werk elkeen meer as vyftien ure per dag en ons het die meeste punte van al die basisse, wat kort dan nog?” “Bly stil!” skree hy, “Julle hopeloos, kom reg of ek verplaas julle almal Lapetus toe. Daar sal jy sweet en jy sal heeldag ʼn masker moet dra om asem te haal!”
“Peter, jy doen vir ons die skottelantennas. Maak dit silwerskoon en kyk na elke koppeling, Alfonso jou werk is die rioleringstelsels, ek soek nie ʼn geur nie, hoor jy vir my!” Hy vee verder op die tablet en deel opdragte een na die ander uit. Die woord ‘Asseblief’ bestaan nie meer nie. "En jy Lydia, vat die Jeep en gaan daarmee tot by die buitebasis en maak seker dat die plek silwerskoon is en alles werk. Wag tot net tot dit koeler is anders kom jy iets oor en dan is dit mos weer my skuld.” Hy draai om en klap die deur agter hom toe. Lydia bly liewer weer stil en wonder hoe sy iets moois van alles kan maak. Hoe kan sy Jonathan verander? Gelukkig hier op Titan is dit darem die enigste ander plek in die sonnestelsel waar mens ook kan asemhaal, al sukkel dit. Die reuse sirkels van Saturnus draai stadig om hulle, die groep kyk na mekaar en sug diep. Een vir een staan hul op om die onsinnige werk te gaan doen. Lydia trek die dunste oorpak aan en gaan sit in die plat voertuig wat soos ʼn kruiwa lyk. Dit sweef bo die grond sonder wiele. “Hoekom op aarde noem hulle dit Jeep?” wonder sy weer, "Waar kom die snaakse woord vandaan?” Sy druk die knoppie en die voertuigie vertrek in ʼn wolk stof op die een uur reis na die buitestasie. “Dankie tog, nou kan ek darem alleen wees weg van die knorrige spul!” Sy sit heerlik agter oor terwyl die Jeep dit self bestuur. Uiteindelik is die buitestasie met sy klomp antennas voor haar, dit is nog bitter warm en mens amper nie glo dat dit oor ʼn paar uur amper minus een honderd grade sal wees! Sy neem die toerusting en werk vinnig van sensor tot sensor. Gou-gou is alles gedoen en daar is tyd om lekker te ontsnap. Sy gaan lê heerlik op die sand en kyk ver die diepte in, in die lug is die reuse Saturnus ringe te mooi, “Waar is die blou planeet en die Vrystaat? Waar is oupa Kobus en die dierbare Boela vandag?” Sy sluimer heerlik in en droom van die oop vlaktes, die merinos wat wei en die
kokerbome op oupa se plaas. “Beeep! Beep!” Sy ruk wakker, die Jeep dryf vorentoe! Dit loop al vinniger en jaag weg in die vertes in! Haar verbinding met die buitewêreld afgesny. Dit is al voertuig in die basis en niemand kan haar nou help nie ... Die donkerte kom vinnig en dit word kouer en kouer, sy bewe van die koue en vrees. Sy begin haar bewussyn verloor toe … "Lydia! Lydia! Wakker word, jy gaan verkluim!” Sy ruk van die skrik ... reg voor haar staan ʼn tienerdogter, die mooiste kind met spierwit kleertjies aan. “W-w-wie is jy?” “Dit maak nie nou saak nie, ons moet jou deur die nag kry, kom!” Die meisie sweef voor haar uit tot by die sandwal langs die satellietstasie, daar is ʼn gat. "Kruip in Lydia!” “Maar wat van jou?“ “Klim in!” en sy stoot Lydia tot diep in die gat. Die meisie gaan lê voor die gat en dit sluit alle lig af. Dit word warmer en Lydia kan weer asemhaal. Sy sluimer weer in en val in ʼn diepe slaap. Sy droom weer van die Vrystaat en Boela wat balle gaan haal wat sy vir hom gooi …
Dit word lig, die gat se opening is wyd oop, daar is niemand nie, “Waar is die meisie dan?” Voor die buitestasie staan die Jeep-kruiwa, “Dis ʼn wonderwerk!” Op die sitplek is ʼn pienk papiertjie, sy vou dit stadig oop, “Liewe Lydia, onthou altyd: 'Inkosi het die nonnatjie gebêre in Sy arm. Hy het haar met Sy kleed bedek ... Sy voel nie meer die kou. Sy't al haar kleertjies uitgetrek, die Kleinbaas te behou' ... Lydia, jy is ʼn wonder mens, gaan terug en maak hulle heel, my beste wense … Racheltjie …”
Erkenning aan AG Visser. Spookstorie met vandag 'n honderd jaar in die toekoms. Lapetus en Titan is twee van die twee-en-sestig mane van Saturnus.
61 Eendjies stap in ʼn ry
Die voëltjies vlieg laag vandag … “Snaaks? Hoekom? Wat weet hulle wat ek nie van hier onder kan sien nie?” dink Gamtosie terwyl sy heen en weer heerlik oor die water dryf. “Narus!" roep sy vir haar ou vriendjie. Narus vlieg laer en met ʼn gefladder soos net mossies kan kom land hy op die ou stok wat in die water dryf. ”Hallo Gamtosie! Hoe gaan dit met jou?” “Nee lekker man, ek hoef tog nie heen en weer te vlieg en kos soek soos julle dom outjies nie!” “Ag man hou jou bekkie! As ek sulke webbe tussen my tone gehad het sou ek my dood geskaam het!” “Ag issie man, jy is net jaloers! Het jy al vir oom Sygnus Swaan gesien? Hy is tog die mooiste dier op aarde en kyk hoe lyk sy voete!” “Gamtosie, julle eendjies dink mos julle is beter as ons,” en hy klap sy vlerkies en styg op, maak ʼn wilde draai en reg oor Gamtosie toe doen hy dit … maatjies moenie vir mamma vertel nie want dis vreeslik wat hy doen, hy het ge-tjorts! “Sies man!” Gamtosie duik diep in die water om haar gesiggie tog net weer skoon te kry.
“Niemand hou van my nie, Narus tjorts op my, die swaeltjies vlieg te hoog en ou Korfu die witborskraai sal my opeet as hy net ʼn kans kry,” sy sug moedeloos, “ waar sal ek tog ook ʼn maatjie kry …?” Sy skop en roei stadig heen en weer en ... skielik is daar ʼn harde slag!
Sy mond is wyd oop, en hy swem na haar toe. Daar is net tande waar jy kyk! Dis ou Dylus die Nylkrokodil! Hy is mos mal oor baba eendjies. Gamtosie roei en roei maar sy hoor die lawaai kom al nader aan haar. Die traantjies spat uit haar ogies, sy weet dis alles oor en verby …
Skielik is dit stil, dit is doodstil, geen branders, niks nie. Sy kyk bang om en julle sal my nou nie glo nie, daar dryf ou Dylus in die rivier af, sy lelike mond nou styf toe en sy groot geel oë knip verskrik! Maatjies weet julle wat het gebeur? Daar is honderde om hom, hulle kwetter en raas en lawaai en Dylus moet net keer vir al wat hy werd is! Weet julle wat doen hulle elke keer as die leier skree? Raai net? Narus vlieg in sulke groot sirkels en elke keer as hy omdraai skree hy, “Tjorts! Tjorts!"
62 Griekse Biefstuk
Erkenning aan die klassieke, “Specialty of the House” deur Stanley Ellin waaruit die slotsin gebou is.
“Bulle 6, Stormers 27!” bulder die groot skerm TV in die golfklub se ledesaal. Koos en Pieter koester tranerig nog ʼn lang glas Windhoek Draft. “Wat gaan aan Pieter?” sug ou Koos, “Wat is fout met ons? ʼn Bloubul eet mos nie van die vloer af nie maar kyk net daar!” “Ja ou Koos en dit nogal hier op Loftus. Wat gaan van ons word ek vra jou?” Die twee sug diep, vat nog ʼn teug en suig aan die sigare. Die eindfluitjie blaas genadiglik. Lank kyk die twee na mekaar, “Koos ek is nogal honger, sal ons iets bestel?” Koos kyk na die muur, bly lank stil, “Piet, belowe jy vertel vir niemand?” “Ek belowe!” “Ek gaan jou vanaand na die beste eetplek in die stad neem, maar dis net tussen ons?” Pieter sluk maar weer en knik. Die twee staan op, “Ou Piet, sal jy vir ons ry? Ek het nou net een dop te veel. My kar kan maar hier bly dan kom kry ek dit môre.” Hulle trek weg in Piet se Prado, Koos knyp die lang blikkie Black Label tussen sy kniee vas, “Kry net Schoemanstraat dan beduie ek verder.” Hulle ry en ry en toe gil Koos, “STOOPP! Draai regs hier in Andriesstraat!” Toe hulle by die Plein kom, “Stop net hier en kom Pieter!”
Die twee slinger in die maanlig tot by die Oom, haal hul Bloubul musse af en Koos bulder, “Aaandhugg!” Die twee kom op aandag net soos toe hulle in die parabats was en salueer! Oom Paul tuur na hulle in doodse stilte, maar as mens jou verbeel het hy tog geknik en daar was 'n glimlaggie in die bos baard. Hulle val weer in die pad met die vol maan wat onder gaan in die weste voor hulle, “Draai regs, nou links …” Dit raak vuilerig en net elke derde straatlig brand nog. Ou motor wrakke staan op die sypaadjies en Pieter loer bang oor die stuurwiel, “Koos is ons reg jong?” “Piet vertrou my, draai nou hier links en stop agter derde gebou op die regterkant.” Daar waar jy dit die minste verwag, seker drie dosyn van die beste uit die Duitse motorstal! “Wat gaan hier aan? Glenda Kemp en Oupa daai luislang?” Koos antwoord nie en stap nader, dis donker, geen borde, net niks ... hy klop aan die deur, “Who’s there, wies daar?” “Georgio dis ek, Koos.” Die deur gaan op ʼn skrefie oop en die twee gaan in, Pieter glo sy oë nie, dis skemer donker met pers liggies, die plek is volgepak met net mans met swart pakke en dasse. Kelners met strikdasse stap heen en weer en dit lyk soos in Sun City! Koos word na sy gewone tafel in die hoek geneem deur Georgio. Hy is uitgedos met ʼn strikdas, kokmus en ʼn gestreepte voorskoot. In sy hand is sy mes, die handvatsel is van egte ivoor en die lang lem glim in die kerslig … “Georgio, dalk net en ek vat ʼn kans, is dit Griekse Biefstuk vanaand?” “Jammer ou Koos, maar wie weet, dalk môreaand?” Hulle skink Meerlust Rubicon 2004 en die twee word meegevoer net deur daaraan te ruik. Die res van die vertrek is stemmig en die ouens buig na mekaar en gesels saggies met breë glimlagte.
Hulle kry nou wel net Atheense lamsboud en ook dit is uit die hemel! Na die heerlike nagereg en port soos jy nog nie geproe het nie is dit pikswart filter koffie. Die twee leun agteroor en sug tevrede. “Koos, jou lae luis, hoekom bring jy my nou eers hierheen? Wat ʼn ervaring!” Koos bly stil en tel die Tweehonderd Rand note op die rekening. Geen kredietkaart hier nie … Net toe hulle op staan swaai die kombuis deur stadig oop en Georgio stap nader. “Menere wat ʼn voorreg om julle hier te kon hê. Meneer Fouche, u is altyd welkom en mag nou ook sonder Koos kom en u gaste saambring.” Hy bly lank stil, daar is ʼn glimlaggie om sy mond en sy snor buig boontoe, “Koos, ek sal jou terug neem, maar dit is nou tyd vir jou besoek aan die kombuis wat ek so lankal belowe.” “Georgio!! Jy is my held, ek wil dit so graag sien! Piet is dit reg so met jou?” “Ag Koos jy is my beste vriend, doen so en net môreaand is ek terug hier en ek soek jou weer hier!”
Piet staan tevrede by die voordeur en vir laas sien hy Georgio en Koos by die kombuis instap. In Georgio se hand blink die lang mes terwyl sy regterarm gerustellend op Koos se vlesige skouers rus …
63 Voshaar meisiekind Die woorde “voshaar”, “Bella”, “Natrossies” en “Waboomskloof” gekry van die wonderlied van Louis van Rensburg, “Voshaarnooi”
Koos se Prado stop stadig voor die opstal. Pieter en Annemarie stap vinnig uit, “Hallo Pappa!” “Dag my liewe kinders!” Die drie druk mekaar. “Dankie dat Pappa vir haar vir die naweek gebring het. Dis net onmoontlik om nou in die skeertyd weg te kom.” “Dit is my grootste voorreg,” en Koos maak die agterdeur oop, “Kom my kindjie.” Lydia kyk diep in sy oë, “Dankie Oupa, ek is so lief vir oupa!” Annemarie tel haar op en Pieter vou sy arms om haar. Koos staan terug, hy haal sy sakdoek uit as hy na die kaal koppie kyk. Die pragtige voshaartjies het nou amper almal uitgeval. “Matrone en dokter sê sy is rustig. Sy het al die pille saam gegee en ook vir die naarheid. Annemarie, sy sê jy kan maar lekker kook vir haar!” Lydia neem haar kruk en stap stadig saam met haar pappa en mamma na die huis.
“Pasop!” skree Pieter. Boela storm om die huis reg op Lydia af, sy dik stert swaai heen en weer en hy spring op en af! Kasper kom by die voordeur uit en begin voor haar rol. Almal wat vir haar lief is, is nou hier en Lydia lag en lag. Hulle sterte staan nou penorent!
Die heerlike ete by kerslig, “Nou ja dis tyd om te gaan inkruip. Lydia, druk net die knoppie langs jou bed en ek is dadelik daar.” “Goed so mamma ... en mamma en pappa, ek voel so lekker weer, net omdat ek terug op Waboomskloof kan wees. Ek wil tog probeer môre ʼn entjie te gaan stap. Kasper en Boela kan saam kom en dalk kan ek tot by Bella met die nuwe kruk loop!” “Doen so my kind, ek gee die selfoon saam dan bel jy as ek moet kom.”
Die son kom op oor die Sederberge, dis die mooiste lentedag. Lydia is lankal op en aangetrek en Boela hardloop weer in sirkels toe hy die tekkies sien! “Pappa en Mamma, hier gaan ons! Ek sal laat weet as dit sukkel. Sal net tot naby Bella loop en haar weer stout maak met die hanepoot natrossies!” Sy stap stadig weg met die kruk, Boela sirkel vrolik terwyl Kasper al in die mik van die volgende kokerboom wag. Hy maau, “Kom julle ouens! As ek nog moet wag sal paar mossies les opsê!”
“Ag ou grootbek,” blaf Boela. “Klim af daar dat ek jou wys jong!” Lydia lag vir die twee stouters, sy voel asof sy sweef. Hulle stap tot by die heiningdraad. Die hele trop staan en wei, net een kyk op en sy hardloop na die draad toe en sy mêê, “Kleinnooi!” “Bella! My hanslammetjie!” Lydia hou haar styf vas. "Jy is so groot! Watse wolhaarstories vertel jy nou al weer jong?” "Lydia, ek is die grootste ene hier en het tog 'n kêrel. Dis daai ou wat daar eenkant staan met die lang horings en ek gaan 'n lammetjie kry!"
Sy sit op ʼn groot klip. Sy is so gelukkig, Waboomskloof se ysterklipkoppies, die berge en die rivier, dit is so mooi … en toe, toe begin alles draai voor haar, die mooi versmelt tot ʼn iets anders. Sy lag weer en prewel saggies, “My dieremaatjies, ek sien die Hemel …”
“Pieter dit raak nou lank jong, kom ons gaan kyk maar want sy antwoord nie die foon nie.” Pieter en Annemarie stap vinnig na Bella, sy kyk af na haar kleinnooi ... voor die dogtertjie lyfie is Kasper opgekrul en agter haar rug styf teen haar is Boela ...
Die keer so anders, Kasper en Boela kyk net na haar en hul se sterte is in getrek …
64 Besoekers uit die Heelal
“Ag, ou Fred, loop tog nou man,” sê die Koos die kroegman, moedeloos. Dis Saterdagaand, dis laat, almal slaap al in die stowwerige dorpie en hy sit met Fred opgeskeep. Fred sit en tuur na die dak. Op sy linker voorarm is in 225pt Times Roman getatoeer, “ELVIS.” Sy ou vriend Jack is by hom. Jack Daniels. Dis al halftwaalf. “Fred ek sluit nou, jy moet nou loop, toe man!” probeer Koos weer. “Nag, Koos,” sê Fred stadig, sonder ʼn woord verder staan hy op en strompel na die deur met Jack in sy hand. “Wat nou,” dink hy, “Sannie moer my vanaand weer as ek so by die huis aankom.” Hy stap skuifelend op die dorpspleintjie. Iets laat hom op kyk, daar is ʼn sekelmaan in die weste, dis verder doodstil. Iets vertel hom, “Kyk op!” Jy sal my nie glo nie, toe gebeur dit! Sonder ʼn geluid, metaalgrys, terwyl dit stadig in die rondte draai, ʼn vlieënde piering!! Fred staan versteen. Koue sweet loop oor sy gesig, hy was nog nooit so bang nie! Die voorwerp maak ʼn geluidlose landing enkele treë voor Fred. Die heel ergste gebeur, ʼn deur gaan stadig oop ... Fred wil weghardloop, maar sy voete met die leë Jack bottel langs dit is geanker in die stowwerige grond. Dit was groen, smarag groen met goud geel oë. Poedelnakend, net oor ’n meter hoog. Dit swymel teen die trappies af tot reg voor Fred. Die man van Mars prewel in metaalagtige Afrikaans, “Vat my na jou leier!!!”
65 Vergewing
“G’d night M’lord” sê Johnson terwyl hy die gordyne toetrek. Hy kyk na die verwese figuur op die hemelbed. Hy stap nader en vee die sweet druppels van die man se voorkop af en trek die komberse tot by sy ken. “Please to ring the bell if you need me, M’lord?” Johnson stap uit en trek die deur sag toe. Hy wriemel en bewe op sy bed, hy is bang vir die nag wat voorlê. Hy weet die donker wrede beelde wat weer op hom gaan toesak. Dit is weer so, grys beelde van rook en vlamme, beeste en perde wat op die velde lê met derms wat uitpeul en dan al weer die ergste; die rye baba lykies. Hy skreeu weer en weer, “Nooo! ... Nooo! It is not true! ... Why did I do it ? Forgive me, forgive, please !!!” En toe ... skielik is dit anders as vorige nagte, die donker beelde vervaag, dit word helder lig. Hy het dan spierwit klere aan! Hy kan weer loop. Voor hom die helder wit trappe. Bang en stadig stap hy op, die groot deure swaai oop, voor hom staan ʼn man, spierwit klere en sy lang wit baard hang op sy bors. “Welkom by ons Alfred!” Alfred kyk verbaas, “Dis dan jy Koos?” “Ja Alfred, en nou sal jy nooit weer alleen wees nie. Oom Paul, Oom Theunis en ek sal mooi na jou kyk.” Alfred kyk terug na sy groot vlerke en na die drie wit bebaarde engele voor hom. Die trane loop oor hul wange, hulle stap nader. “Alfred," sê oom Engel Paul, “Ons het jou vergewe, onthou dit altyd!” Skielik is daar ʼn vladdering, Alfred kyk verbaas op. Hoog bo hulle vlieg 28 000
baba engeltjies wat lag en speel. Hulle kom hang voor die drie, die hemelkoor sing uitbundig soos nooit van te vore, ”de la Rey, de la Rey, jy het Lord Alfred ook kom bevry!”.
Soos altyd, presies om agt uur trek Johnson sy strikdas reg, hy maak die groot kiaat hout deur stadig oop, stap saggies tot by die venster en trek die gordyne oop. Hy kyk oor die dowwe strate van Londen en sê, “G’d Mornin M’lord ...” En vir die eerste keer na twintig jaar is daar geen antwoord ...
Ons noem dikwels plekke na mense wat wrede dinge moes doen. Potchefstroom, Koning Tsjaka Lughawe, Verwoerdburg, Pretoria, Dingaanstat, Rhodes Universiteit en Silkaatsnek ... Hulle was ook maar mense en slagoffers van hul tyd en moet vergewe word. As ons egter deur die strate en mooi strande van Milnerton beweeg, is vergewing bykans onmoontlik. Lord Afred Milner (1954 - 1925) het ʼn glorieryke loopbaan as istrateur, strateeg en later kabinets minister gehad. Hy kom na Suid Afrika, leer homself Nederlands en later “the Taal” vlot praat. Hy is die koningin se hoof denker en deurvoerder. Hy los vir ons die Verskroeide Aarde ...
66 Wys my die plek
“Wys my die plek waar ons saam gestaan het, wys my die plek waar ons saam gekniel het, eens toe jy myne was ...” prewel John deur 'n waas van trane. Hy kyk na die verwaaide papiere wat aan die doringdrade vaskleef. Norvalspont se rye tente voor hom en die trane rol oor sy wange. Die vlekke op sy elke skouers waar die drie sterre eers was en die vervaagde embleem van Lancarshire Rifles op sy helmet. Die medaljes vertrap onder sy stewel. Vae beelde vleg deur sy gedagtes, die lang reis van Southampton en Eton lank reeds vergete. Die vrolike soldate, "We will fix these barbarians within a few days, guys!" Hy werk as kampoffisier en toe daardie dag ... die vroutjie wat vlot Engels kon praat. Haar blonde hare wat onder die kappie wys en die donker blou oë, “Sir, I am a teacher. May I come here and teach the children?” John het geweet dat alles teen hom sal wees. Elke wet sal dit verbied. Hy help haar om in en uit te kom, haar te vermom as 'n kampvrou, elke dag gesels, haar trane te droog as hulle nog ʼn kindjie weggedra ... Hy oortree elke wet, hy word deel van die verminkte mense, hy leer "the Taal". Snags laat, as hy haar help om uit die kamp te kom, dit was eers die vinnige aanraking, toe die eerste soen op haar wang, later om haar styf vas te hou en saam huil oor wat was, wat is en wat kon wees. En toe die sersant wat salueer, “Captain Archer, the colonel wants to see you ...” Kolonel Jackson kyk veragtend na hom, "You betrayed the Queen and country! How could you!!" Hulle stroop hom van sy rang en sy medaljes. Sy werk word om kinderlykies na hulle grafte te dra ... hy sien haar nooit meer nie. “Annette, ek is so lief vir jou, so lief vir die kindertjies ... hoekom, hoekom ...?”
Geinspireer deur CL Leipoldt se gedig, "Wys my die plek".
67 Eens toe jy myne was
Lydia hou haar hand op haar maag, sy voel hom skop, die keer soveel meer met mening. Sy praat met die 8 maande outjie, “Pietertjie, maar jy is darem ʼn kwaai mannetjie!” Sy weet sommer hy hoor alles. Die outjie gaan mos eendag die bobaas boer op Biesiesfontein wees! Sy kyk uit oor die verlate vlakte, die vuil tente, Parys se bergies in die verte. Dis Kroonstad kamp en dit is dis net ellende. Wat moet van Pietertjie word? Gaan hy lewe? Waar is Johan dan? Bermuda? Wanneer kry dit alles ʼn einde? “Goeie môre Lydia,” tannie Anna loop verby. Sy is ons kampengel wat salfies vir alles het. Sy steel dit mos skelm by die Engelse se hospitaal en hulle het dit nou nog nie agter gekom nie! “Goed tannie,” antwoord Lydia, “ek is net so honger.” “Toe maar my kindjie, ek weet waar om iets lekkers te kry ... en Lydia, moenie bang wees nie, ek het dosyne babatjies gevang, in my hande werk dit mos altyd!” Daardie nag, dit was bitter koud toe die eerste krampe kom. “Sannie, help!” “Lê doodstil, Lydia, ek gaan roep gou vir tannie Anna!” Dis stil in die tent, yskoud, net die enkele laken oor haar, sy weet sy is by die knakpunt, as Johan tog net hier kon wees. Sy is so honger, haar kop draai en sy versink in ʼn diepe slaap.
Dis helder dag, daar is stemme om haar, tannie Anna vee haar voorkop af, wat is dan so nat hier om haar? Lydia kyk na die laken, dit is vol bloed ...
Hulle neem die lykie weg en gaan gooi dit by die ander tussen die brommers in die sloot. Tannie Annie hou haar styf vas, Lydia huil en huil.
Die perde kom aangejaag, Piet Poggenpoel, die gehate hanskaki, vooraan. Hy skree, “Dis oor, dis oor! Ek was nou by Oom Koos hulle in Vereeniging, alles is oor, julle gaan huis toe!” Lydia staar in die verte, alles verby, verlore vir altyd.
Haar tent flap swaai oop, die groot man stap binne, sy skrik toe sy die medaljes en sterre sien, hy haal sy pet af, “Dear lady, I am colonel Atkinson, we did this to you ... I am so sorry...” Hy gaan op sy knieë, hou haar hande vas, hy huil bitterlik.
Alle eer aan Douwlina du Plessis, Winnie West, Nanna Meades en Herzola van Heerden wat so mooi help om die Jacobsdal en Klerksdorp kampe te gaan besoek. Ook dank aan Genl. Gert Opperman en Prof Pieter Labuschagne vir hul inligting. Die titel van 'n gedig van CL Leipoldt.
68 Kindjie van die Wind
Bermuda
31 Julie 1900
My liefste Johanna,
Ek huil nagte om oor jou en die lieflinge, dalk veral oor klein Gertjie want sy was maar twee jaartjies oud toe ek haar laas gesien het, sy is so diep in my hart gekruip ...
Vanoggend toe skree Sergeant Atkinson weer op ons, "That damn woman, Osbourn or Hobhouse or something, demands that each of you may send a letter home, now queue up, come and get a pen and paper here and write, now get fuck'in on with it!!”
Ek droom snags en weet sommer dat die oorlog seker nou lankal oor is en dit so goed met julle gaan. Hoe gaan dit op Malapanze? Is die skape mooi vet en kom die Vaalrivier sterk af? Sal ons kan saai? Wat gebeur op Christiana en Makwassie? Ou Rooihaan kraai natuurlik vroeg dag en jy en die kindertjies kan reg maak vir nog ʼn mooi dag.
Kan Hendrina al weer skool toe gaan en is juffou van Wyk terug daar?
Jong, ek het soveel vrae!
Dit gaan nie te sleg hier nie, ek kan al selfs bietjie in Engels skryf. Sergeant Atkinson is vreeslik en elke tweede woord begin met ʼn “F”! Ons kry genoeg kos en dit is warm hier met die mooiste strandjie. Hulle sê Amerika is net oor die horison, kan jy dit glo?
So gou ek terug is neem ek julle en wys hoe lyk die see. Gaan Gertjie aan haar twee handjies vashou en in die water laat loop en sy sal vreeslik lag, ek belowe!
Johanna, ek droom snags en sien julle so gelukkig, en kan nie wag om terug te kom nie. Ek droom hoe jy en die kleintjies moet lyk met julle spierwit kappies as julle met die honde en lammetjies speel. Dalk moet ons vir Gertjie 'n pers kappie opsit, net omdat sy so oulik is!
Waar slaap Kasper nou snags? Ek hoop hy het opgehou om rotte in die huis in te dra, want hy as weer met 'n rot op Gertjie se bedjie gaan spring gaan ek hom sommer knyp!
Ons gaan een van die dae hier uit kom, dan kom ek terug, wag vir my en dan gaan ek julle druk en soen en vashou terwyl Gertjie sommer vir dae lank op my nek ry ...
Al my liefde,
Jou Gert.
Naskrif:
Johanna, hier het vandag 'n skip gekom en ons het elkeen nou 'n brief van die Engelse regering gekry.
In myne staan daar, "Died in the Klerksdorp camp: A boy, GD Victor 3"
Seker maar net 'n fout? Julle is mos nie in 'n "camp" nie? Dit kan tog nie Gertjie wees nie? Sy is dan 'n dogtertjie?
... Johanna, PRAAT MET MY ... !!!
Erkenning: Die Klerksdorp museum en Winnie West. Twee kleindogters van Gert leef nog om die storie agter die storie te vertel. Gertjie sterf op 3 jaar en word as 'n seuntjie op die gedenksteen in Klerksdorp gewys.
69 Sy kom met die volmaan
“Kom nou ou, kry lewe!” roep Pieter hard vir die Corolla terwyl hy die versneller in die hoek trap. Hy kyk bang in die spieël, die swart Beemer is skaars tien meter agter hom. Daar is twee mans in dit en op die nommer plaat, “KOOS EC” “Wie is die Koos wat my agtervolg?" dink Pieter bang. Al die pad van Graaff Reinet is die kar reg agter hom. Vinniger en stadiger, hier is iets verkeerd … Skielik is daar niks, die Beemer net weg … Pieter ry stadiger om die skerp draai, die padbord wys, “Barendas.” En net daar staan sy … hou haar kop in haar hande vas en sy dra ʼn lang wit rok. Hy stop dadelik, “Dame kan ek help?” “Meneer, asseblief ek moet in die dorp kon. Sal jy my kan neem?” "Ons is nou nou daar, waar moet jou aflaai?" “Porterstraat nommer twee asseblief.” Pieter begin bewe net omdat hy haar stem gehoor her. Die mooiste stem. Sy klim stadig in, die lang rok netjies gevou met haar kop in steeds in haar hande. Pieter probeer gesels, "nou hoekom staan jy dan in die middel van die nag hier?” Geen antwoord. Sy sit net. Hulle ry en ry en daar is geen teken van die swart Beemer nie. “Juffrou, jammer om te pla, maar ek wil so graag weet wie jy is?” “Meneer, kan ek jou maar Pieter noem?” “Hoe ken sy my naam?” dink hy verskrik. “Daar was ʼn swart BMW agter jou.” “Ja! Hoe het jy geweet?”
“Maak nie saak nie, dis Koos wat daar in was. Hy is ʼn slegte persoon en ek het gesorg dat hy jou nooit weer sal pla nie.” “Baie dankie! Ek was so bang, maar hoe het jy dit reg gekry?” Sy bly net stil. “En jou naam?” Sy bly steeds stil en toe uiteindelik, weer met die mooiste en sagste stem wat hy nog gehoor het, “My naam is Lydia Marais.” “Lydia! Wat ʼn mooi naam!” Pieter se wange gloei, hy sluk swaar en sy hart klop vinnig want iets groots het gebeur. Langs hom sit ʼn persoon wat skielik in sy lewe gekom het, sy is so anders, sy is lieflik! Die liggies van die dorp kom nader, Pieter wil elke oomblik rek, maar hoe kan hy, dis al middernag? Hy stop voor die Porterstraat huis, skakel die motor af en draai na haar … die sitplek is leeg, daar is niks, sonder om die deur oop te maak het sy net verdwyn … Lank sit hy en wonder, sy eerste groot liefde het gekom en gegaan. Hy skakel die Corolla aan en ry stadig die dorp uit. Hy sien verlaas die groen bord in sy spieël, "Uniondale" …
70 Gamtosie se weerwraak
Gamtosie word wakker. “Nou watse lawaai is dit nou weer?” Hy skud sy koppie, en glo nie wat hy hoor nie. Net ʼn spul bobbejane kan so te kere gaan! Hier by ons dammetjie nogal. Aggenee!!! Dis altyd alles so lekker hier, te klein vir ʼn aaklige krokodil, en groot genoeg vir vissies om mee te speel. Fibius die seekoei kom soms kuier maar hy is almal se vriend. En nou dit! “Boggom!!” brul dit weer in die verte. “Ag nee, hulle kom al nader, wat nou?” Die takke kraak en die bome skud, maar hier kom hulle. Vooraan is oom Adoons, en kort agter hom tannie Keesje met ou Kaas Windvogel langs haar. Hulle loop hande viervoet, en ander weer penorent soos ons eende. “Wat nou?” dink Gamtosie bang. Die spul kom staan by die dammetjie, met hul sterte ver agter uit, drink te heerlik. Hulle trap sommer op Gamtosie se slaapplek, ag nee man! “Sies julle spul bobbejane,” dink die outjie, “ek moet hulle ʼn les leer, maar hoe?” Al die ander eendjies is weg om kos te gaan haal, en daar is niemand om Gamtosie te help nie. Kaas, Adoons, Keesje en die ander spul strek hulself uit, en lê sommer net daar en slaap. Snork hard en jaag al die voëltjies weg. Gamtosie wens hy kon ook hoog vlieg en sê by himself, “Dan sal ek stadig oor hul vlieg, en reg bo-op elkeen ʼn groot spierwit tjorts maak!” Die plan gaan nie werk nie, want sy vlerkie het mos seergekry toe hy sy mamma gehelp het om die nuwe eiers aan te rol. Dokter Signus Swaan sê dit sal nog twee
weke neem voor hy weer kan vlieg. Gamtosie kruip om die mopanieboom weg en krap sy snawel om ʼn idee te kry, “Wag net ʼn bietjie, ek het dit!” Hy stap vinnig en saggies weg. Hy loop ver en weet presies waarheen, en gaan staan onder die ou groot soetdoringboom en fluister, “Serko! Is jy daar?” Die takke wip op en af, en gaan julle my glo? Wie spring daar af tot reg voor Gamtosie? Serko, die stoute blouaap! “Jy moet help, Serko. Adoons en sy spul lê om ons dam. Hulle ruik sleg na maroelas, en jy weet wat dit beteken, né?” “Stormdronk al weer en doen net niks. Snork net.” “Waar is ou Juba, jou jagluiperd vriend? Hy kan mos help!” vra Gamtosie. “Nee, hy het gaan ouers vra in Satara, en sal seker eers oor ʼn week met sy nuwe vrou terug wees.” “Nou hoe gaan ons hulle weg kry?” “Wag ʼn bietjie ... ek weet, soos daai mense wat altyd vir ons kom kyk, ek het ook hande!” Toe die bobbejane almal pens in die lug lê en snork, sluip Serko tussen hulle. Een vir een knoop hy hul sterte aan mekaar vas, die stouterd! Hy klim toe hoog in die boom, so hoog waar niemand hom sal bykom nie. Met ʼn diep stem, nes hy by ou Jabu geleer het, maak hy nes ʼn jagluiperd, "BRULLL"! Outjies, julle moes gesien het wat toe gebeur! Keesje hol links, en ou Kaas weer regs, terwyl Adoons in sirkels spring. Weg is die Adoons- hulle, en vrede daal neer oor ons seekoeigaatjie. Dankie tog!
Erkenning aan TO Honniball wat vir ons Adoons hulle gegee het en Wilmien Marren wat kinders vermaak met Gamtosie die eendjie poppie. Die name is uit
Honiball se stories gekry en ook van die Latynse name van die diere.
71 Die naakte waarheid
“Ag nee man!” sug Koos, “wat maak ons vandag?” “Koos dis nag. Kyk hoe huil die sedoos,” antwoord ou Piet. “Nou is ma en pa ook weg na daai reunie ding en hier moet ons na die aaklige koue see kyk!” “Plaas dat ons eerder by die huis kon wees. Dink net aan al daai girls in Menlo se swembad. Die Kaap is aaklig!” "Ja en Lydia het net gister ge-Whatsap, 'ek en Annamerie gaan julle nog daar kom verras.' Hoe gaan hulle dit reg kry vra ek jou? Droom voort ... ai tog" Die twee sug diep en staar na die skuimende branders deur hul glase gemmerbier. Jy kan nie eers die plek se naam uitspreek nie. “Hou kan jy ʼn plek so ʼn naam gee, wat de hel beteken dit ou Piet?” “Nee jong die dom Capies weet ook niks. Meneer Steenkamp sê altyd dis omdat hulle nie kaalvoet oor die Drakensberge geloop het nie. Spul sissies!” “Ja en dink net oor ʼn jaar is die eksamen verby en ons gaan ons lisensies hê. Pa sal net moet ‘ja’ sê vir die Polo … dan Margate, hier kom ons!” Piet en Koos sit moedeloos, hulle ken niemand, hier is nie girls nie en die mense is sommer aaklig. Ai tog! “Jong, gee tog daai koerant hier. ‘Die Burger’, wat ʼn stupid naam …” sê Koos en blaai deur die naweek bylaag. “Kyk hier Pieter! Llandudno is in die nuus!” roep die ou uit, “Kom ek lees vir jou voor, 'daar was weer polisie klopjagte op die berugte Sandy Bay maar geen hond is haaraf gemaak nie. Sandy Bay is steeds die wegkruip plek vir diegene wat waagmoedig is. Dit neem so twintig minute se rotsklim om daar te kom en dit is beter dat minderjariges weg bly daar!’ ” “Koos weet jy wat dink ek … wanneer kom Pa en Ma?”
“Hulle is eers Paarl toe en dan na oom Sarel hulle, seker eers teen sonsaktyd?” “Jong, gryp daai mik-n-druk van ons en kom ons gaan kyk!” Hou jou asem op, die stouterts sit dik donkerbrille op en draf strand toe in die huilende Suidoos! “Kom ek weet waar, het al gesien hoe die girls die paadjie vat!” roep Koos. Daar trek hulle, klippe op en af. Toe net toe alles wil mooi uitdraai ... voor in die paadjie staan so ʼn groot lelike ou. 'n Dik knuppel hang aan sy belt. “Stop net hier, wie is julle?” “Meneer ons is op pad Sandy Bay toe.” antwoord Piet. “Kom laat ek deur julle goed gaan.” Koos laat val skelm die kamera in die bos agter hom! “Hoe oud is julle?” “Ons is al neëntien meneer.” “Bleddie moeilik om te glo, maar julle het darem al baard.” brom die ou, “nou hoekom lyk julle dan presies dieselfde?” Koos gee hom ʼn vuil kyk terwyl Pieter vinnig die mik-n-druk red en veilig terug in sy strandsak sit. Lekkerr! Die twee word stil, hulle loer om elke rots maar dis net klippe waar jy kyk. "Waar is die girls dan?" Piet loop nou voor, “sjuut Koos, ek dink ek hoor stemme ...” Die twee sluip stadig om die rots en daar reg voor hulle in al sy glorie, Sandy Bay! “Maar hier is dan geen mens nie!” “Stuff hulle!” Piet begin net daar van alles ontslae raak. “Kom Koos kom ons duik in!”
Koos laat nie op hom wag nie en die twee, sonder met eens ʼn vyeblaar, storm die yskoue water binne! Hulle swem in sirkels, “Kom Koos, kom ons kyk wie is eerste op daai rots!” Hulle swem en klim op die rots en staan daar, punt in die wind, lag vir mekaar. “Jong as Lydia en Annemarie ons nou moet sien!” “Ja dit sal nou eers snaaks wees. Die meisies van ons tog, dis altyd skreeusnaaks as hulle ons nie uit mekaar ken nie!” “Dis vrek koud, kom ons gaan tan bietjie.” “Ja, tan van alle kante!” Hulle swem terug, rol hul handdoekke uit en dommel heerlik in … en net toe… Daar is 'n wrede gil, "NEEEE!!!" Koos en Pieter vlieg op ... en daar voor hulle, die naakte waarheid, hulle klou aan mekaar vas en klem hul hande oor hul gesigte, sonder 'n vyeblaar of selfs daardie kritiese drie sterrietjies ... Lydia en Annemarie!!
72 Koshuiskaskenades
“Ek kan dit nie meer vat nie!” sê ou Hannes, “Ek het my mense ses maande laas gesien, dis unfair!” “Ag, ek is so jammer vir julle Rhodesiërs tog. Wat soek julle hier in die eerste plek?” “Luister Herman, ek bring elke keer ’n dosyn Playboys en Penthouses. So hou op kla!” “Sjoe en julle koop dit net so daarin die winkels! Wat ‘n land!” “Ag jaa…”
Welkom in Huis AJ van der Merwe (wie op aarde was hy?) hier teen die hange van Leeukop, dis eindeksamen tyd en die standerd ags en tiens kry nie afnaweek nie. Ons moet leer! Toe gebeur die wonderwerk, ou Eugene praat oor die tiekieboks en vroetel met sy kas sleutel in die slotjie. “Gwhaaa!” Daar val die hele geldkis uit! Die goeie nuus trek soos ‘n veldbrand en al 95 van ons maak gou vir ons duplikate. Sien dan werk dit so, jy sluit dit oop, haal die geldkis uit en dan gooi jy net die muntstuk in en vang dit weer as dit uitval. Maklik en verniet!. Nou loop baie idees rond oor wat om alles hiermee aan te vang en die meesterplan word gebore, hou jou hart vas! Al die matrieks, so vyftien van ons, staan rondom die tiekieboks. Die ou wat mooi sing en mooi praat, Johan, het die telefoon stuk in die hand. Ons kies sommer enige nommer in die foonboek. “Goeie naand! Is dit mevrou Viljoen?” vra ou Stemmet vriendelik.
“Ja …?” “Welkom mevrou! U is nou lewendig op Springbokradio se Surf Show Pick-aBox!” Daar is ‘n geskokte stilte aan die ander kant … “Mevrou ons het drie vrae en as u al drie reg het, wag daar vir u ‘n splinternuwe Ford Capri XL Super by Mike Jones Motors in Seepunt! … Is u reg?” “Uhm ... uhm .. ja?” “Wel die klem is die op die letter “B” vanaand. Watter beroemde komponis is vanjaar tweehonderd jaar oud? Mozart, Bach of Schubert?” “Bach natuurlik!” So gaan die veldslag aan en sy antwoord al die vrae seepglad. Johan waai vir ons en ons tjeer luidrugtig. “Veels geluk! Die Ford is u sin en u kan die Maandag by Mike Jones gaan kry!” Ons werk deur die telefoonboek en dosyne dom kapenaars wen die een motor na die ander. Al verloorder is die Poskantoor wat nie ‘n sent inoes nie maar wie gee om? . “Watse lawaai is dit die?” “Meneer!” sê Johan, “Ons laat mense karre wen!” Meneer Kemp wil hom op lag. “Wag, hier my meisie se nommer, laat sy gou ook ‘n kar wen, toe man!” Die onskuldige dingetjie word ook om die bos gelei terwyl die skare luidkeels applous gee. ‘n Halfuur later kom Meneer terug. Hy lag so dat hy nie kan praat nie. “Ouens, Sannie het Springbokradio gebel om meer detail te kry. Hulle is woedend en sê dat meer as twintig mense het nou al kom vra wanneer hulle die Fordjie kan kom
haal!”
73 Sak in die losskrum
“Klop, klop … “ “Kom binne! Wat is dit nou weer ou Brinkie?” “Meneer, kan ek vir meneer iets kom vra?” “Praat man en gou ook, ek is besig!” mompel Ou Bees terwyl hy die biologie laboratorium regkry vir die middag se gesukkel met die standerd sewes. “Meneer, ek wil weer graag rugby speel.” “Damn sure sal jy speel, ons het elke man nodig. Wat is jou storie?” “Sien meneer, my pa het nie geld soos die ander kinders nie en ek moet vir myself sorg. Elke punt tel want ek moet ‘n beurs probeer kry. Is dit ok as ek speel soos in standerd nege maar dat ek uit sit in die eksamen tyd?” “Sjoe jong! Ek wens daar was meer kinders soos jy. Leer en bring ook jou kant vir ons skool op die rugbyveld. Natuurlik kan ons dit so doen. Dankie jong!
Word darem vir die B span gekies, haker al weer, uit die oog uit die hart. Net een doel en dis om die eerstespan ouens opposisie te gee as hulle moet regmaak om teen Paul Roos, Boois Haai of Bishops darem nie te ver te gaan verloor nie. Dis eksamen en Maandag is dit geskiedenis. Vrydag kondig Bees aan dat alhoewel daar nie ‘n wedstryd is nie die A en B spanne moet kom oefen anders wat gaan van ons word? Die Saterdag is leer tyd al van vyf uur die oggend af. Brinkie gaan hom looi! Teen tien uur … “Ghwar .. ghwar!!” en die koshuiskamer deur swaai oop. Hy staan daar uitasem, ou Beyers, ‘n standerd ses outjie.
“Meneer is baie kwaad. Hy sê jy moet dadelik kom anders is dit ses van die beste!” Genoeg is genoeg van die macho voorspelertipes! Hy plak sy pen neer en storm af in die gang. Buite is dit nogal ‘n mooi dag vir die tyd van die jaar. Klomp skepe staan tou in in die hawe te kom en die Sedoos het heeltemal gaan lê. Oor Distrik Ses hang die ewige stofwolk soos die bulldozers sewe dae per week hul werk doen ... Hy stap die een blok af tot by die rugbyveld. Ou Bees skree, “Hoekom het jy nie jou toks aan nie??” Brinkie stap tot by Bees. Die ander 29 staan in ‘n sirkel, hulle is verstom … “Meneer! Ek en meneer het ‘n ooreenkoms gehad! Kyk die spul se pas is stinkryk wynboere. Ek het niks en moet vir myself sorg. Ons het ooreengekom dat ek nie vandag oefen nie. Wat dink Meneer van Meneer self?” Hy draai om en stap met lang hale terug na die koshuis. Bees en die ander staar verdwaas …
Niks was ooit dieselfde nie. Die onmiddelike afdanking na die D span natuurlik gevolg deur ‘n helde verering op die speelgrond soos die gerug versprei.
Dit is 2015 en kom na 45 jaar weer die keer eerste in die gange. Laurika sing vanaand vir ons en ons help saam met haar om 'n mooi geldjie vir ons skool te maak. Ons erken mekaar selfs! Groot geraamde fotos van die skoolhoofde, Meneer Bees een van hulle. Maak ‘n buiging want dis sulke ouens wat ons sterk maak vir dit wat moes voorlê.
"Ek ken 'n ou-ou liedjie van lewenswel en wee ..." Die trane loop oor my wange ... ook hy het my op sy manier gevorm ...
Dankie Meneer Bees!
Nawoord: Die koshuis lewe in die middel van Kaapstad met allerhande interessante tipes. Beyers is vandag die mooi wynpersoonlikheid van Beyerskloof, Laurika bly 'n treffer en Johan ‘Noot vir Noot’ roep natuurlik se elke Vrydag aand vir ons met, “Bly net daar!!”
74 Telewraak
Opgedra aan oom Koot Visser en oom Billy Oberholzer, Vanwyksvlei se nag sentrale operateurs wat in die 50s en 60s ons gemeenskappie se lewens met plaaslyn skindery opgehelder het.
Elsie pluk haar lessenaar se boonste laai oop. Hieraan moet sy nou einde maak ... Sy sit haar goue raam dik brilletjie weer op, haal die voorwerp uit en glo dit steeds nie. Dit lyk dan nes die prentjie uit die Brandwag wat hy vir haar gewys het .... dis haar beloofde verloofring in die koevert! Sy lees weer die briefie by dit, "Elsie ek wou dit eers kom aansteek, maar vat dit maar net, die merinos is vet, die veld is mooi en die wolpryse goed. Ek voel vere vir die geld. Kyk maar of jy 'n paar pond vir dit kan kry. Jy is iedergeval nie eers 'n halfkroon werd nie, Johan" Die traantjies loop oor haar wange. Skielik weet sy wat om te doen, waggel orent en gryp die telefoon teen die muur. Sy draai die slinger vyf keer. “Nommer asseblief?” “Luister hier ou Koot, jy weet wie ek soek!” "Jammer beset." "Gooi hulle af man!" “Maar Elsie ek kan nie sommer op die plaaslyn in gaan nie, hulle kan praat net so lank hulle wil!” “Koot, drop dit nou net hoor jy vir my! Stella en Kotie sal die heel dag skinder en jy weet dat Susan en Lydia sit en in-luister!”
“Elsie, asseblief, jy weet hoe streng die poskantoor is. Die ouens betaal my salaris en ek moet my werk doen soos hulle vir my dit vra.” Elsie sug diep, tel tot tien en probeer weer, “Koot, hoor my nou mooi. Flip net jou vinger en maak hulle stil, hulle sal nie weet nie dan sit jy vir my Helena op die lyn. En … Koot, ons het net gister daai rooi koei geslag en die biltong sal oor drie weke perfek wees!” Daar is so ‘n lang stlte, “Maar Elsie, hoe gaan ons die spul keer om af te luister?” “Maak nie saak nie, hoe meer hulle hiervan skinder hoe beter vir my! Toe nou, ek sit nou neer en wag!” Daar is ‘n lang stilte, Elsie haal maar haar breiwerk uit want dinge gebeur maar stadig hier op Vanwyksvlei. “”Pirr, pirrr, puurr puurr puurr” Twee - Drie, dis my lui! … "2145, dis Helena wat praat?" "Halloo, halloo, is dit jy, Helena?” Daar is ‘n swaar stilte aan die ander kant. Elsie hoor duidelik die asemhalings op die lyn met Lydia se swaar Springboktwak ene die duidelikste van almal. “Helena, sersant was hier en hy vertel hy vir jou en Johan saam op die Brandvlei pad gesien het. Sy groen Fairlane was agter daai koppie vier myl van die dorp af geparkeer. Is dit waar of nie?” Sy plak die foon neer en teug diep aan haar koppie Rooibos … die Vanwyksvlei stereo gons, die mooie Helena se naampie daarmee heen en Johan sal sy goed nou in Brandvlei moet gaan koop en sal sy gesig nie weer in die dorp wys nie ... Lekkerrr!
75 Spoor van haat
Elsie pluk haar lessenaar se boonste laai oop. Hieraan moet sy nou ‘n einde maak ... Sy lees weer haar brief, “Vat hom na die park toe, verkoop die pakkie aan hom goedkoop dat hy nog wil hê, Piet van die dwelmtak sal by die hek wag en hom gryp. Sorg dat jy oor die oorkantste heining spring en vinnig weg kom!” As dit uitwerk sal alles gedoen wees en Koos vir die res van sy lewe boet en sommer in Zonderwater sy laaste ure beleef. Lekkerr!
Elsie stap uit op die balkon van die kantoorblok, kyk ver na die Magaliesberge en sug diep. Ou herinneringe spoel weer oor haar. Die pa wat sy nooit geken het nie, die stiefbroer, vyftien jaar ouer, met sy die vatterige hande en die middernagtelike besoeke. Hofsake oor die boedel en toe sy met niks uitgeloop het … Nou is dit die groot oomblik, hy sal boet en wreed ook. Albert ken almal, hy sal die Mandrax aan Koos verkoop en sy vriende in Zonderwater sal hom finaal verwoes. Maklik!
Daar is ‘n klop aan die deur, “Binne!” Hy stap in maak die deur toe agter hom, “Liefste ou Elsie, hoes dinge vandag?” “Koos gaan weg!” Sy oë gly weer oor haar, "Oo-nee, jy skuld my paar dinge!” “Wat?”
“Ag jy weet, ons kan weer bietje kafoefel en dan het jy mos jou hande op daai lekker goed.” “Gaan weg!” roep sy nou baie bang. “Oo nee, geen manier nie, wanneer kry ek dit?” “Ok dan, ek reël en sal ‘n SMS stuur.” “Vergeet dit, geen SMS want dan tel die cops dit op.” “Goed tog, sal 'n brief in jou posbus sit”
Dit is na middernag toe sy die brief in Koos posbus by sy Danville woonstel gooi. “My ou ontmoet jou elfuur Vrydagaand in die Roostuin in Schoemanstraat by die groot boom. Jy praat niks nie, gee hom sy geld in ongebruikte note, negeduisend rand en hy sal die goed vir gee. Loop by die Pretoriusstraat se hek uit en sorg dat niemand julle saam sien nie.” Toe SMS sy, “Albert, ek kry jou Dinsdag agter die kantoor net na toemaak tyd.” Amper onmiddelik piep die Nokia, “Reg!” Sy skakel die sekuriteitskameras af en stap bang om die hoek … niemand mag hiervan weet nie. Hy staan reeds daar, glimlag breed en sy getatoëerde voorarm rus op sy knie. “Albert, jy weet hoe dit werk? “Lyk ek vir jou dom?” “Net om dood seker te wees, jy vat die goed, gee vir hom en hy sal jou betaal. Daar sal 'n twee duisend rand bonus wees. Hardloop na die hoek en klim oor die heining. Piet en sy manne sal in Pretoriusstraat wees.” “Reg! Wat is nou moeilik hier aan?”
Dis amper middernag, Koos homp met sy kierie die roostuin binne en trek heerlik aan die Gunston. Die lekker goed wag!
“Koo-oos?“ hoor hy ‘n fluistering. Albert staan onder die Apiesdoringboom. “Het jy die goed?” “Gee die geld en jy kry dit.” Vinnig verwissel die twee koeverte en Albert verdwyn in die nag. “Waarheen nou?” wonder Koos, “aag wat ek gaan net hier sit en ‘n paar sluk, hoekom nie?” Piet en sy twee konstabels wag in die straat by die hek, “Waars die ou man dan? Al weer ‘n liegstorie seker?” Hulle steek ‘n Stuyvesantjie aan en haal hul pette af vir die lang wag.
Twee weke gaan verby en Pieter is weer vroeg op kantoor, "Meneer! Meneer!" "Wat is dit nou weer Sipho?" "Meneer kom kyk by die Apiedoring, daars mooilakheit!" Pieter stap uit, al die tuiners staan om die boom en beduie. Hy loop versigtig nader, trek die blare van die struike weg en daar is dit, in die hand is 'n koevert met "M" op dit, maar die ergste is die brommers wat om dit alles rond maal.
Elsie pluk haar lessenaar se boonste laai oop ... sy haal die ou vergeelde Pretoria News uit en lees vir soveelste keer die hoofberig, "Elderly man found in the Rosegarden ... " Die wraak was toe soveel soeter …
76 Die tweede kans
Dit is Desember, die blitse speel in die lug, die Hoëveld op sy mooiste. Koos het die laaste voorbereidings gedoen. Alles gaan perfek uitwerk en elke dingetjie op sy plek. Die prokureur gesien, die beleggingsstate afgehandel, die tuinjong is afbetaal met ʼn bonus, die huis is kraak netjies. Hy sit stil en dink oor gister en vandag, aan Pieter en Lydia met die kleintjies in Perth, aan Annemarie reeds tien maande van hom weggeneem. Hy weet sy wag vir hom ... Hy hou dit in sy hand, voel die koue metaal en weet alles sal perfek uitgewerk, hy weet presies hoe om die volgende tree te gee. Hy staan op om die radio en die ligte af te skakel. Toe hy aan die volume knoppie raak sing sy groot held, “Skenk 'n helder Somerkersfees aan hierdie land o Heer ... toe Hy sy Seun aan ons gestuur het ons grootste Kersgeskenk ...” Die trane drup op sy knieë. Hy bêre die voorwerp terug in die kluis.
Vir die eerste keer in tien maande lag Koos weer ...
77 Die Padda Prinses
Gegrond op ʼn Aesof fabel
“Koos!” sê Pieter, “Dis darem weer verskriklik warm vandag.” “Ja, Pieter, die Kalahari is nie vir sissies nie,” antwoord ou Koos. Die twee sit met hulle tone in die water van die klein dammietjie. “Koos, ek wil met jou praat vandag, hierdie die water gaan opdroog en dan het ons niks meer nie, ek en jy sal die pad moet vat en water gaan soek.” “Aaag ou Pieter, jy is altyd so negatief oor dinge!” “Koos ons moet water soek voor dit te laat is. Môre eerste lig loop ek en ek vra jou mooi kom asseblief saam?” Lank voor dagbreek val die twee in pad, hulle weet dat hulle nou vinnig water moet kry, anders gaan die son hulle hier doobrand. En toe maatjies, jy sal my nou nie glo nie, toe gebeur dit! Hulle kom af op ʼn diep put vol heerlik koel watertjies! “Kom Pieter kom ons spring in jong!” roep Koos oorstelp uit. “Koos ons kan nie want as dit ook opdroog, hoe gaan ons dan hier uit kom?” Koos luister nie eers nie, knyp sy neus toe en duik in die heerlike water in en skree vir laas,” Whoeppee!!” Pieter trek voort, hy kom amper aan die einde van sy kragte. Intussen, daar in die put ... sterf Koos ʼn eensame wrede dood, die put droog op en hy sterf van dors. Pieter hop voort hy kan bykans nie meer nie, maar toe voor hom horison tot horison is ʼn reuse moeras vol koel blink water! ”Kom dat ek jou help,” hoor hy ’n sagte stem.
Sy vat sy hand en lei om stadig tot by die water, hy kyk op, sy was smarag groen, bedek met grys slym met haar hele lyf vol vratte, Sy glimlag vir hom met ʼn breë tandelose mond. Sy was die mooiste ding wat hy nog ooit gesien het! Pieter word gou gesond, hulle kom bymekaar, sy lê miljoene eiers en gou gou is die hele moeras vol van kwakend paddavissies. Sy hop na Pieter toe. “Dankie dat jy gekom het,” sê sy “jy sal altyd my paddaprins wees, ek is oneindig lief net vir jou!”
Om oor te gee
Silwerseeaftreeoord 18, Melkbosstrand 7437 24 Oktober 2035
Liewe Vandré,
Waar gaan ons hiermee begin? Twintig jaar verby wat ek oor dit dink en wonder. Toe gebeur alles gister …
Ons almal, ouma Wilmien, oupa Rian, pappa en mamma Grethe was bymekaar vir my verjaardag. Ouma het gevra dat ons na Stellenbosch se begraafplaas gaan en eers mooi blomme op oumagrootjie se graf sit. Ons het soveel gehuil, maar ook so dankbaar vir wat sy met ons gedeel het.
Mamma Grethe vra toe dat sy iets kan sê. Sy vroetel in haar handsakkie en daar in volkleur is jy! Nog net so groot soos ʼn ertjie maar ek sien al jou donker vel soos myne en die groen ogies!
Ons het so lekker gelag, baie gehuil en mekaar vasgehou want ons was so bly! Ons kyk op en weet Oumagrootjie lag van Bo saam ...
Net daar besluit ek om vir jou ʼn brief te skryf. Vir die oom Koos wat my dinge hanteer gevra om dit te hou tot jy twintig jaar oud is en wanneer jy mooi sal verstaan.
Vandré, ek gaan daarna na dokter Erik en hy wys my die dinge wat hul gemeet het. “Oom, dit lyk maar sleg en die pad vorentoe gaan baie moeilik wees. Dalk ses maande maar niks meer nie.”
Vandré, op vier en tagtig het elkeen sy deel gehad, ek en jy sal mekaar nie sien nie en daarom is die brief nou soveel meer wonderlik om aan jou te skryf.
Hoe gaan jou paadjie loop tot jy die twee en twintigste eeu gaan sien? Wie sal weet? Watter wonderlik dinge gaan gebeur? Ek hoop die slegste is nou verby. Die Wêreldoorlog III was vir ons so sleg en om te weet dat die mooie Europa en Asië niks van oor is meer nie.
Al die mense dood en die stede staan leeg. Hulle vertel die bestraling sal nog lank wees en niemand sal daar kan kom nie. Die Amerikaners is al weer op hul voete en gaan goed aan en hier onder kon ons dit alles vryspring.
Ek het al die fotos van die Mars landing en hoe hulle daar rond geloop en golf speel het! Sal pappa vra om vir jou te gee. Gaan die Uranus ene mis, maar jy sal dit alles kan beleef!
Liewe Vandré, nou wil ek mooi met jou praat, as jy nog nie verstaan nie, bêre die brief en lees later as jy ouer is? Dis net vir jou bedoel en jy mag vir niemand
vertel nie. Ek weet jy sal nes ek wees en ek vertrou jou al die pad. Ek kan nie groet met dit in my hart nie, dit sal verkeerd wees.
Dankie liewe ding, by voorbaat!
Die lewe was mooi en ek kon amper tot nou toe nog voorbly. Nie sleg vir ʼn ou wat sewentig jaar gelede al rekenaars met Fortran bewerk het!
“Rekenaar, wat is dit?” mag jy vra.
Sulke groot masjiene wat dinge onthou en somme maak. Toe word dit al kleiner tot jy dit in jou sak kon dra. Julle outjies sal heerlik daaroor kan lag, hoe outyds! Jy moet onthou, ons kon darem al vir iemand ʼn brief stuur reg om die aarde in 100 sekondes!
Almal het toe al hul dinge vertel en dit was so simpel om die goed te sien. Skreeusnaaks en ons het mos dit genoem, ‘Facebook’!
Ek het nog verlede jaar met die nuwe Xmenon stelsel kon raad gee. Hoe is daai?
Terug tot wat ek vir jou wil vertel en wat ek weet tussen ons sal bly. Vandré ook jy sal dinge beleef en dinge oor droom, Die lewe sal sy pad met jou loop, jy gaan baie foute maak en soveel suksesse hê. Geluk en ongeluk ervaar. Dalk wat ek jou sal vertel help hiermee?
Die mens se grootste krisis is energie. As ons net die waterstofatoom kan tem ... al in 1952, meer as 90 jaar gelede, die eerste bom ontplof. As ons dit net kan tem sal ons al die energie wat ons van kan droom uit 'n glas water kan kry!
Alles het so dertig jaar gelede gebeur, 2016. Vir jou sal dit ʼn ewigheid wees, vir my soos gister. Ek en oumagrootjie woon toe te lekker in Durbanville en jou mamma was ʼn klein dogtertjie wat heeldag by ons kom speel het. Ek sit natuurlik heeldag en krap waar ek nie moet nie op die outydse rekenaar.
Ek gaan draf toe die dag om te oefen vir die halfmarathon, by die dorp uit en net daar op die oop pad toe gebeur dit …
Daar staan ʼn hondjie, sommer so ʼn baster enetjie met ʼn mank beentjie. Ek stop en vra, “Wat is jou naam? … ek weet jou naam is, dis Buksie en jy gaan saam huis toe!”
Oumagrootjie was mal oor jou en hy het sommer net daar op die dubbelbed gespring. Kasper was eers kwaad, maar toe word hulle groot vriende en slaap saam tussen ons!
Ek kry toe die idee, dae lank daarmee geloop en geweet dat ek niemand kan vertel nie. Dit is net te groot maar weet dit kan gedoen word. Ek het iemand nodig om te vertrou. Iemand wat jonk en slim is.
Buksie en Kasper sit altyd saam op my skoot en ek verbeel my hulle praat met my toe sê Kasper, “Luister hier jou dom hond, hoe dink jy gaan ons …"
“Jy is nes alle katte, dink als behoort aan julle, hier is my antwoord, "
Net daar liewe Vandré, kom alles bymekaar ... dit is alles in die trommeltjie by oom Koos se kantoor. Die sleutels is in sy brandkas ...
Ek weet hoe om waterstof te tem ... dit is joue om alles vir almal beter te maak. Jy sal beroemd wees, bly nederig. Jy sal skatryk wees, gee om ... doen dit !
En Vandré, vertel tog vir niemand wat gebeur het nie, maar die pad vorentoe gaan nou baie swaar wees, vir my maar veral vir die familie, ek gaan dit nie aan hulle doen nie.
Dokter Erik het vir my pilletjies gegee en mooi verduidelik hoe dit gaan werk. Dit sal die regte ding wees om te doen ... ek weet oumagrootjie wag vir my en ons gaan weer heerlik lag! Al my liefde, my trane omdat ek jou nooit sal sien, my vreugde om te weet jy sal alles verander!
Oupagrootjie Van der Spuy
Die Lelike Eendjie
“Meraai! Wakker word, jy is al weer laat!” “Jaaa maaa!” Meraai staan vinnig op, sy skuifel met haar dik beentjies val-val oor die goed wat in die gang rond lê. Sy kyk in die spieël deur die ou goue raam brilletjie en kam haar hare. Die puisies op haar wange gloei in die kerslig. “Oom Piet is nou hier en hoe moet ek jou by die skool kry as jy hom elke dag laat wag?” “Jaa maa!” Sy voel die bangheid in haar wakker word en haar hand begin weer bewe. Oom Piet en die pad dorp toe ... Sy gaan staan voor die huis, dit is spierwit geryp en sy bewe van die koue. Die vuil Datsun bakkie kom om die draai. Sy klim in. “Hallo Meraaitjie Koekemoer, jy lyk weer pragtig van môre!” Meraai skuif sover moontlik van hom weg en sy linkerhand wat heeltyd op die rat hefboom rus.
Sy sit haar tas in die ry neer en kyk na die dogtersspeelgrond. Groepies staan rond, maar sy gaan staan teen die draad en kyk na die son wat opkom. “Goeie môre klas,” sê Meneer Steenkamp. “Goeie môre Meneer!” Koos van Wyk sit agter en fluister vir Jaco, “Kyk net Meneer het pienk sokkies aan vandag! Wat se soort man hy is dan?” “Hy is nie ʼn man nie laat ek jou nou vertel …” Net toe Meraai gaan sit skop Koos haar stoel weg, sy val. Die hele klas lag, “Haaa!”
Meneer kyk om van die swartbord, “Marilyn, het jy seergekry?” Die trane is vlak in haar oë en sy kyk net vir haar tone. Toe sy stadig opkyk, heel voor in die middel sit hy en hy kyk om. Hy lyk hartseer. Hy knik vir haar … Jean-Pierre.
Dit is pouse. “Marilyn, sal jy gou agter bly? Sit gou, ek wil met jou praat.” “Ek sien dat die kinders met jou spot. Ek wens ek kan Koos ʼn klap gee, hy is skelm want ek sien nie wat hy doen nie. Jy moet weet dat ek hom dophou en as ek hom uitvang het hy probleme.” “…uh ... uh ... dankie Meneer …” “Marilyn, jy kry swaar met wiskunde, en ek wil dat jy elke tweede dag eerste pouse agterbly. Ons gaan dit maak ek belowe jou!” Sy sit verbaas, “Uh … dankie Meneer …Meneer kan ek iets vra? “ “Vra maar my kind?” “Hoekom noem Meneer en Jean-Pierre my Marilyn?” “Ek het nie ʼn vrou nie en wil ook nie een hê nie. Tog bewonder ek vrouens wat opstaan en uitstyg bo alles. Marilyn Monroe is my en JP se groot heldin. Ons twee het oor jou gepraat, omdat jy nou swaar kry maar ons weet dat jy eendag die mooiste en slimste sal wees. Jy is nes Marilyn!”
“Hallo pa!” “JP! Hoe was die rugby oefening?” “Ag pa, ek speel maar net omdat daar te min seuns is. Met Koos as kaptein en tussen hom en meneer Hanekom is dit eintlik maar sleg. Ag wat, deel van die lewe!” “Jong en tussen ons, Nico Hanekom en Koos senior saam is slegte nuus vir ons
dorp. Nou het hulle vir Dominee ook in hul web ingetrek. Hier kom groot moeilikheid.” Daar is ʼn klop aan die deur, “Kom binne!” Hy stap in met ʼn breë glimlag, “Marius Steenkamp, wat ʼn verassing!” “Ou Louis en Jean-Pierre, ek het groot nuus, gooi daar vir ons ʼn dop!” “Ag man jy en jou stories, ek het juis ’n vyf jaar oue Roodeberg hier. Reg vir jou?” “Jou ou skelm! Roodeberg is mos onwettig, maar jy weet natuurlik hoe om dit te omseil want jy en Sersant is mos pelle, jou ou rakker, moenie eers vra nie!” “JP, kom ook hier, maar nie ʼn druppel vir jou nie, hoor jy my?” “Ja Meneer,” lag JP saam. Meneer maak die koevert stadig oop en sit ʼn brief voor hulle neer, “Whaa-Laaa! Rekord eksamen uitslae, JP jy is die eerste outjie van Hoërskool AF Liebenberg wat dit ooit kon regkry, agt A simbole en 93% vir Wiskunde, jou ou doring!!” Louis en JP glo nie wat hulle hoor nie en lag van oor tot oor, en toe … “JP wat is dit nou?” Jean-Pierre begin rukkend snik, Marius en Louis hou hom styf vas. “Pappa, Meneer julle glo in my al die jare. Toe mamma verlede jaar weg is hemel toe het pappa na my gekyk en my in myself laat glo.” Hy snik onbedaarlik, “en Meneer het ure na skool met my gesit en my sin, cos en tan geleer en geleer. Ek is net wat julle van my gemaak het. Jammer pappa, dis mos alles weer Meneer se skuld want ek gaan ʼn ingenieur word!” Die drie teug aan hulle drankies en Louis rond alles af met ʼn heerlike melktert. “Terwyl jy nou hier is, Marius jy kan dalk raad gee. JP ons sal moet kies oor die diensplig ding. Die nuwe wet sê dat dit nou twee jaar vir almal is, maar jy kan gaan as jy eers klaar geleer het.”
“Pappa en Meneer, dis al waaroor die ouens praat en die meeste voel dat ou maar moet gaan en dit klaar kry. Ek kan dan daardie tyd al my wiskunde een sommer deur Unisa klaar maak.” “Louis, ek ondersteun dit. Ook omdat dit vir ʼn jong outjie goed is om bietjie fisies uitgedaag te word.” Die drie sit stil en weet dat die antwoord op die tafel is. “Ag man dis tog niks,” antwoord Louis terwyl hy ʼn diep sluk neem, “Nou eers daardie lisensie kry en JP, as jy my kar stamp wiks ek vir jou!”
“Het jy al ʼn skiet gekry?” vra Annie. “Ja en whê tog!” antwoord Susan. “Vertel! By wie?” “JP natuurlik!” “Gelukkige duiwel! Dis net omdat jou pa en oom Louis elke dag in die hof vir mekaar gluur. Ek weet sommer hulle het dit vooraf gereël.” Susan bly ʼn rukkie stil, sluk twee keer, “Issie! Hy gaan nog my kêrel word. En jy?” “Koos homself, meneer macho!”
“Marilyn, kan ek jou iets persoonliks vra? “ “Meneer mag maar.” “Het jy al iemand om mee saam te gaan na die matriekafskeid?” Meraai begin sag huil. “Meneer, daar is dertien dogters en twaalf seuns. Niemand gaan vir my vra nie en waar moet ek ʼn rok kry? Ma se pensioen is skaars genoeg vir ons om te eet.”
“My kind, kan ek vir jou geld vir ʼn rok gee? Asseblief?” “Maar Meneer dan gaan ek net heel aand in die hoek sit. Maar nes hier op die speelgrond. Nee wat, ek bly liewer by die huis.” “Marilyn iets anders, jy het jou wiskunde in die rekordeksamen deurgekom. Maar kom ons wees eerlik, daar is nog baie werk voor tot die end van die jaar.” “Ek is reg meneer, ek belowe om so aan te hou. Ek moet dit net deurkom!”
Daar is ʼn groot opgewondheid! Meneer het die bruin koevert klaar opgeskeur. Almal gil, “Plak op Meneer!” Marius steek die papier vas maar hou sy hand daarop. “Haal weg Meneer!” “Ouens net gou dit, vir die eerste keer het ons ag A simbole! Jean–Pierre!!” “Geluk ou JP!” skree almal. “En dan is daar net een her vir net een vak. Ook dit is ʼn rekord vir ons skool. Geluk ouens!” Die hele groep draf met ʼn groot geraas af in die straat na Oom Jan se kafee. “Margate hier kom ons!” Meraai staan een kant, sy kyk na haar voete. Weer verbeel sy haar, maar JP kyk weer stil na haar … Meneer stap na haar toe, “Marilyn … ek is so jammer.” “Toemaar Meneer ek is al gewoond hieraan” “Jy my kind twee belangrike dinge. Ek het met oom Sarel gaan praat, hy het vir jou werk in sy winkel. Hy en tannie Lydia het ook ʼn kamer in hulle agterplaas waar jy kan bly. Ek stel voor jy aanvaar dit.” “Rêrig Meneer?” “Ja toe en doen so, jy kan Maandag begin. En dan Marilyn, sal ek jou in die winkel na werk ontmoet, oom Sarel het vir ons daar ʼn tafel reg en elke dag net na werk takel ons die logaritmes. Reg met jou?”
Sy begin snik, “Meneer, Meneer is uit die hemel … Meneer is ʼn engel!”
Die hele dorp is daar, almal praat hard, die mammas kloek vir laas oor hul spruite. Meraai stap versigtig nader en net toe sy om die rooi baksteen stoorkamertjie loop, hoor sy haar gunsteling liedjie, “Good bye Norma Jeane ...” Sy kyk bang om, daar staan hy ... “Ek het vir jou gewag Marilyn, ek moet met jou praat. Nou voor dit te laat is. Jy is al waaraan ek al jare dink, sal jy vir my skryf? Asseblief?” Sy stap bang in, hy maak die deur agter haar toe, sag neem hy haar gesig in sy hande en soen haar. Al haar jong meisie verlangens en frustrasies spoel oor, sy gryp na hom druk hom vas. Sy hande gly oor haar rug. Golwe van ekstase spoel oor hulle, deure van die paradys swaai wyd oop ... Die trein fluit skril, skielik is sy alleen, daar is net ʼn papiertjie in haar hand.
Sy begin by oom Sarel se Spar werk en tannie Lydia help haar mooi reg. Die man van Volkskas het ook gekom en sy kom al mooi reg met die Visa masjientjie. Dit is vir haar so lekker om die mense van die dorp te help en veral die ouer mense op pensioenvrydag te wys waar die winskopies is. Laat oggend kom hy daar aan, “Haai ou Meraai, hoe is dit dat jy nou hier moet werk?” “Koos, dis lekker en ek geniet dit soveel. Oom Sarel is goed vir my. Wat doen jy?” “Ag ek val maar by my pa in maar die ouens op die plaas doen alles en ek het nou my eie bakkie en baie tyd op hand. Wanneer kan ek by jou kom kuier?” Sy word bang, “Ek het geen kuier tyd nie, ek leer wiskunde.” Hy kyk af na haar, “Wiskunde! Dis nou dom, wat wil iemand soos jy nou daarmee doen?”
Meraai bewe van woede, “Koos hoekom doen jy nie diensplig nie?” “Ha! Dis ʼn geheim, maar as ek nou daai lang Bar One kan vat dan vertel ek jou.” Sonder om vir ʼn antwoord te wag, gryp hy dit van die rak en druk dit amper heel in sy bebaarde mond. “Sien dit werk so, ou moet net die regte ouens ken. My Pa, Dominee en Meneer Hanekom is hoog op in die Party. Hulle noem hulself Broeders, dis nou snaaks! Een ding is seker ek gaan ook een word en is klaar junior lid. Julle mis al weer uit want dis net vir mans. Dis nou pret!” Koos trek ʼn lang teug aan die Gunston en blaas die walms in haar gesig, “Wat ek jou nou vertel vertel jy vir niemand hoor jy my!” Sy deins terug vir die stank, “Goed Koos, ek belowe.” “My pa en meneer Hanekom is toe Rustenburg toe en met die streeksouens te gaan gesels. Dokter het ook gehelp met die vorms. Sien ek is nou ‘medies ongeskik’ al speel ek vir die eerste span slot. Wat ʼn grap, maar dis hoe dinge werk vir ons Boere, lekkerr!”
Elke week kom die brief, elke week antwoord sy … “Liefste Marilyn, dis vreeslik hier in Oudsthoorn tog geniet ek dit. Korporaal Louw se taal is nie vir jou ore nie! Hoe gaan dit met die eksamen leerdery?”
“Liewe JP, ek verstaan niks … leer net en Meneer kom help elke dag.”
“Jy sal wiskunde wen, ek belowe jou Marilyn. Ek is tog gekies vir die korporaalskursus, whê!”
“Liefste JP, My uitslae het gekom, ek is deur, 61% nogal!”
“Geluk ou! Geweet jy kan. Ek is darem nie so dom soos ek lyk nie en net volgende week het ek tog twee strepe!”
“Meneer het hier aangekom en weet jy wat het hy gedoen? My gaan inskryf by Unisa vir Wiskunde. Lankal geweet sy kop is aan die uithak, ai toggie …”
“Marilyn, ek verlang na jou, ek is lief vir jou …”
“My liewe JP, verlang? Ek is sonder woorde … Groot nuus, my eerste taak teruggekry en met 78% deurgekom. Korporaaltjie jy is besig om tweede te kom!”
“Luister ou winkelklerkie voor jy ʼn groot koppie kry, as ek terug is gaan jy vir my integrale en differensiale leer, het jy my gehoor?”
“Korporaal, u verstaan dit duidelik nie, ek is goed maar ek is duur, besig en beswaarlik tyd vir korthaar outjies soos jy, maar probeer en maak ʼn afspraak lank voor die tyd en net dalk miskien sal jy ʼn beurt kry!”
“Groot bekkie! Liefste Marilyn, ek droom oor ons sewe dae pas, maar samajoor Vivier het kom aankondig dat ons gereed moet wees want die oor Angola word al erger. Jong, nou is ek bietjie bang.”
“Jy mag nie gaan nie JP! Sê net nou jy kom iets oor?”
“Dit is so, maar ek sal elke Vrydag skryf.”
Die briewe kom gereeld en Meraai pak dit diep weg waar niemand dit kan sien nie. Dit word minder, dis is bekrap, seker daardie sensors waarvan JP van gepraat het. Sy werk hard en oom Sarel is so gelukkig met haar. En elke middag sluitingstyd is hy daar, “Marilyn jy is ʼn doring! 82% vir jou taak!” “Issie! Dis alles Meneer se skuld!” “Man hou op stories maak, jy kon dit altyd doen, nou net ʼn geval van jy glo in jouself. Saaareeell, kom hier!” “Marius, wat is dit nou weer?” “Gooi vir ons ʼn dop en ʼn kleintjie haar, ons moet dit vier!”
Sy stap terug huis toe, die son is al laag. ʼn Motor stop langs haar, dit is dof bruin geverf. Sy onthou vaagweg die “M” op die nommerplaat. Die ruit draai af en daar sit ʼn groot man met grys hare. Hy dra ʼn uniform met pers strepe op sy skouers. “Verskoon my dame, weet u dalk waar is meneer du Plessis se huis. Hy is blykbaar die prokureur hier by julle.” “Meneer, draai links by die derde straat, dis Verweystraat en dan is sy huis die derde een aan die linkerkant.” “Dankie dame.” Meraai stap vinnig en loer versigtig om die straathoek. “Hoekom staan Meneer se Volksie en Dominee se bakkie dan ook daar …?”
Die nuus trek soos ʼn veldbrand deur die dorp ... meneer kom nie meer middae
nie en sy kan met niemand hieroor praat nie. ʼn Maand gaan verby en sy het nie weer na die wiskunde gekyk nie. Doen net haar werk en probeer slaap. It is dertig dae later en daar is ʼn kloppie aan haar deur. Hy kyk vir sy voete, “Marilyn, ek weet van alles, JP het al in standerd nege met my oor jou kom praat. Ek was vir julle so jammer want daar was nie ʼn manier hoe julle in ons dorp ooit bymekaar kon wees nie.” Hulle val in mekaar se arms, hulle huil saam. “Meneer, ek moet na hom toe gaan maar ek is so bang!” “Ek dink ook so, Sondag vroeg as almal nog slaap sal ek jou kom oplaai, jy moet dit van jou af kry.”
Dit is nog voor sonop toe Meneer voor haar deur stop. Sy neem die rose en klim in. Hulle praat niks en sy sien deur haar trane die strepe op sy wange. Hy parkeer en vat haar hande, “Liewe Marilyn, ek wag vir jou hier, ek kom amper elke dag na hom toe, maar dit is beter dat hy jou nou alleen sal sien.” Sy neem die rose en stap bang na die ingang. Die deur is reeds oop en sy stap in. Sy sak op haar knieë voor die klein brons bordjie. Sy lees deur die waas van trane wat drup op haar voete: “HELDEAKKER Ons vir jou Suid Afrika! Jean-Pierre du Plessis (18) gebore 23 Oktober 1967 Gesneuwel en vermis 10 September 1986 iewers aan die grens.”
Sy kyk deur haar kantoor se venster, dit is die mooiste aand. Die volmaan kom stadig op oor die Pieke. Die kampus is verlate en net ʼn paar studente stap nog rond. Vanaand is dit die kanseliersmedalje toekenning en dit is tyd om te gaan. Sy haal haar handspeëltjie uit en kyk na die plooitjies om haar oë. Sy buk en trek die onderste laai oop. Dit is in die goue kissie en sy haal dit uit.
Sy maak die deur agter sag toe en kyk weer na die bord, sy glo dit steeds nie, “Prof Norma Jean Koekemoer, Fakulteit Ingenieurswese, Dekaan.” Sy vou die vergeelde papiertjie oop en lees nou vir die duisendste keer,
“My liefste Marilyn, jy kan alles doen, alles! Glo net in jouself. Jy moet weet dat al is ek nie by jou nie, ek jou altyd lief sal hê. Ek wag vir jou … Jean-Pierre.”
Skrywer
Van der Spuy Brink het natuurwetenskappe studeer en later die sielkunde van groepgedrag. Hy werk in die mynbou industrie plaaslik en in etlike ander lande in met mynbou ontwikkelings projekte. Sedert 2002 doseer hy MBA vir Unisa, Open University en Milpark besigheidsskole en doen strategie ontwikkeling vir maatskappye en geleentheidstoesprake vir gradeplegtighede, maatskappye en liefdadigheidsorganisasies.
As lid van Toastmasters Internasionaal sedert 1999 verwerf die hoogste kwalifikasie van Advanced Gold en is etlike keer ʼn nasionale semi finalis in Humor, voorbereide Engels en Afrikaanse Skouspel.
Medestigter van personera.com wat die 2009 Microsoft Enablis toekenning in die media kategorie en die 2010 Department van Wetenskap en Tegnologie toekenning vir stelselsontwerp wen.
Hy skryf besigheidsartikels en kort stories en bly fiks deur ver en vinnig te hardloop.
Meer: www.corvus.co.za