Anderkant die scrap
Dana Snyman
Human & Rousseau
FAMILIEFOTO
Ons sit by die kombuistafel, ek en Pa. Ons deel ’n blikkie Black Label en kyk na daardie foto van ons klomp, laggend voor die ou huis op Daniëlskuil. Dit is op Kersdag geneem – 1974, dalk ’75. Links staan oom Apie in ’n groen safaripak. Pa se vinger gly tot op hom. “Foei tog, ou Apie is ook al dood.” ’n Brahmaanbul het oom Apie een middag op sy Bosveldplaas onderstebo gestamp en hom vertrap. Voor oom Apie sit uncle Ted op sy hurke, met ’n pakkie Gold Dollar in sy hemp se bosak. (Jy kan ook ’n gedeelte van die getatoeëerde anker op uncle Ted se voorarm onder sy mou sien uitsteek.) “Ja,” sê Pa, “en ou Ted is seker ook nie meer daar nie.” Wie sal weet? Uncle Ted het op ’n dag in 1977 verdwyn en antie Ann gelos met die skuld by Russells, die twee katte, die flat op Newcastle, en die verdriet. Pa-hulle het ’n noodberig oor Radio Suid-Afrika laat uitsaai: “Daar word dringend gesoek na meneer Ted Wallace van Claredon Court nommer 3, Newcastle. Hy is laas gesien in ’n geel Toyota Corona Merk II, registrasienommer NN 3598. Ons herhaal ...” Maar uncle Ted het nooit van hom laat hoor nie. Antie Ann het later die flat opgegee en tydelik by ons in die spaarkamer kom woon met haar Pat Booneplate en haar skelm bottel cane in die spieëlkas se laai. Later het sy werk by Langeberg-koöperasie in Benoni gekry, en nog later was sy slegs ’n asem in ’n kankerlyf op ’n wit TPA-laken in ’n hospitaal in Boksburg. Langs uncle Ted hurk oom Jorrie, Ma se oudste broer. “Wanneer is oom Jorrie nou weer dood?” vra Pa en neem ’n sluk bier.
Ek weet nie wanneer oom Jorrie dood is nie. Ek weet net hy het ’n Rangerstasiewa gehad en hy was nie baie gewild onder die familie nie want hy was nie ’n Nat nie. Hy was ’n Jannie Smuts-man, ’n Sap wat in die Tweede Wêreldoor die Noorde teen die Duitsers gaan veg het. The only good Nat is Nat King Cole, het hy altyd gesê. Oom Jorrie se vrou, tant Johanna, lewe darem nog. “Maar sy het mos Alzheimer’s,” sê Pa. “Sy herken nie eens meer haar kinders nie.” Voor tant Johanna staan neef Fanie op die foto, oom Apie en sy vrou tant Lena se enigste seun. Hy het ’n blou safaripakkie aan en in sy hare blink iets soos Vitalis. Pa se vinger talm ’n oomblik op neef Fanie. “Die hartseer wat dié kind darem sy ouers aangedoen het,” sê hy. Twee jaar gelede was daar stories in die koerante oor neef Fanie en sy manlike lover wat ’n vigs-wesie uit Lesotho aangeneem het. Pa se vinger skuif verder regs, oor oupa Plaas – hy is ook al dood, een valstandlose nag op Volksrust – tot op ouma Plaas wat heel links staan, met haar een Scholl-sandaal op die geut se afvoerpyp. “Hoe lank is Ouma nou al dood? Ses jaar? Sewe?” Langs Ouma staan Ma met ’n pers doek om haar kop. Sy lag die lekkerste van almal. Of só lyk dit as jy mooi na die foto kyk. Pa se vinger vertoef ’n woordelose oomblik op Ma, gly dan tot op oom Ys sy enigste broer, wat heel regs op die foto staan – oom Ys wat nooit getroud is nie en ’n majoor in die polisie was wat onder meer na doktor Verwoerd se hond Punch omgesien het. Pa se vinger skuif verder en kom tussen oom Abie en tant Baba in die agterste ry tot rus. “Dié twee is mos uit mekaar uit,” sê hy. Oom Abie het sy sigarette deur ’n lang swart koker gerook en hy en tant Baba is geskei min of meer ’n jaar nadat hul seun Frits (ook in die agterste ry) in die operasionele gebied in die ou Suidwes dood is toe ’n mortier per ongeluk ontplof het in die basis waarin hy was.
“Wie is dié?” vra Pa en druk sy vinger op ’n meisietjie met ’n wit strik in haar hare wat langs tant Baba staan. “Is dit Pinkie van oom Flip en ant Breggie – die een wat vir die ANC in die verkiesing gestaan het?” “Nee, Pa, dis nie Pinkie nie, dit is Santie wat nou al hoe lank in Kanada woon.” Ons sak in ons stoele terug, ek en Pa, en sit stil na die foto en kyk, asof dit ’n spieël is waarin ons gesigte gereflekteer word. “Seun, weet jy dalk,” vra Pa ná ’n ruk, “weet jy dalk hoekom lag ons almal op dié foto?”
DUSKANT HOPETOWN
Dis moeilik om by iemand wat op daardie droewe vlakte duskant Hopetown gestrand is, verby te ry. Daarom besluit ek dié middag om maar stil te hou by die man, die vrou en die seuntjie wat by ’n ouerige Gypsey-woonwa langs die pad staan. Ek het ook skaars van die pad af getrek, toe kom druk die man ’n hand met drie vingers by my venster in: “Middag, Meneer. Ek’s Louwtjie, Meneer.” Hy het so ’n tuisgebreide, moulose truitjie aan, ’n Jet Stores-denim en ’n paar nerfaf wit Jordan-skoene – van daardies wat eens op ’n tyd deur die popgroep The Soft Shoes op TV geadverteer is. Die seuntjie kom staan met skurwe kniekoppe by hom. Die vrou wag by die karavaan. “Kan’k help, Louwtjie?” vra ek. “Ons soek ’n geleentheid, Meneer. Ons is op pad PE toe.” “Nou waar’s julle kar?” vra ek want dis net die Gypsey wat daar staan. Louwtjie laat sak sy kop en kyk na daardie Jordans asof dit die bron van al sy probleme is. “Dis nou eintlik ’n ander ding. Meneer, sien, ons het nie ’n kar nie.” “Nou hoe’t julle tot hier gekom, Louwtjie?” “’n Ou het ons vanmôre van Warrenton af tot hier gesleep, Meneer.” “En hoe’t julle op Warrenton gekom?” Louwtjie wil nog antwoord maar die seuntjie spring hom voor. “’n Ander oom het ons teen ’n snotspoed van Orkney af met sy Camry getrek, Oom.” “Devontjie, stil jy!” Louwtjie sit sy hand op die kind se kop en kyk na my met ’n
breë frons tussen die oë. “Ek weet eintlik nie hoe om dit vir Meneer te sê nie, maar ons hike met hierdie karavaan, Meneer. Ek sien Meneer het ’n tow bar. Kan Meneer ons nie dalk ’n sleep gee nie?” Dit moet ek van nader beskou, besluit ek, en maak my deur oop.
Louwtjie is een van daardie ouens, besef ek gou, wat al so baie in die lewe gesukkel het dat hy dit nie meer as sukkel herken nie. Vir hom is dit maar hoe dinge moet wees. Sulke ouens spaar jou gewoonlik ook mos nie die feite nie. In die rukkie wat dit ons neem om van die Condor tot by die Gypsey te stap, vertel hy my sy hard luck-storie: Hoe hy ’n ketelmaker op Secunda was, met ’n huis, ’n Ford Cortina Interceptor, ’n motorboot, ’n swerm wedvlugduiwe en hierdie woonwa. Toe verloor hy twee vingers in ’n werkongeluk. En toe, later, verloor hy die werk ook. Toe begin hy en ’n vriend ’n tuindienstebesigheid. Maar toe verdwyn die vriend met die geld en die grassnyers. En toe verloor hy die huis. En die kar. En die boot. Die swerm wedvlugduiwe het hy verruil vir twee visstokke. En toe, bankrot en desperaat, stoot hulle maar een oggend die Gypsey tot langs die pad buite Secunda en wag daar vir genade. En genade het gekom in die vorm van ’n motor met ’n trekstang wat hulle tot anderkant Hammanskraal gesleep het, op pad Thabazimbi toe, waar glo die moontlikheid van werk was. Dit het hulle drie dae geneem om op Thabazimbi te kom, maar Louwtjie het nie die werk gekry nie. Toe het hulle ’n draai op Rustenburg gaan maak, steeds afhanklik van motors met trekstange. Op Rustenburg het Louwtjie wel werk gekry – as nag-wag by ’n hoenderplaas. Maar skaars ’n week nadat hy daar begin werk het, breek daar toe Newcastlesiekte onder die hoenders uit en omtrent al die hoenders vrek. Nou gaan hulle maar Port Elizabeth toe. “Ek’t ’n pel in PE,” sê Louwtjie en kyk verby die Gypsey in Hopetown se koers. “Hy gaan vir my ’n job by Goodyear organise.”
Ek loer deur een van die Gypsey se ruite. Binne is allerhande goed: koffers, ’n kartondoos waarby ’n teddiebeer uitsteek, ’n bottel Limousine-brandewyn, ’n Soda Stream, ’n Blou Bul-vlag, en daardie twee geruilde visstokke, nogal met Penn 49-katrolle aan. Die vrou het intussen ’n mandjie te voorskyn gebring, twee breipenne uitgehaal en begin brei aan iets wat na ’n geel trui lyk. “O, sorrie, dis Meisie, my vrou.” Sy knik skamerig en brei voort. Ons sleep die Gypsey nader aan die Condor, haak dit. Toe klim almal in: Louwtjie voor langs my, Meisie en die kind agter. Ek verwonder my altyd aan die gelatenheid waarmee mense soos Louwtjie hulp aanvaar. Ons is skaars tien kilometer weg, toe sit hy lekker diep weggesak in die sitplek met daardie twee Jordans hier voor op die paneelbord, en hy “Meneer kan nie dalk ’n bietjie aanstoot nie? ’n Man wil nie in die donker langs die pad staan nie.” Ek het aangebied om hulle te tou tot op Britstown waar die pad wegdraai na Port Elizabeth, via De Aar, Middelburg en Cradock. Maar dis moeilik om “aan te stoot”, die Gypsey is heeltemal uit balans. Duskant Strydenburg leun Louwtjie vorentoe en help homself aan ’n pepermentjie uit die dosie in die holte by die rathefboom; en anderkant Strydenburg, toe haal hy ’n kasset uit sy broeksak en gee dit vir my aan. “Gee Meneer om om dié een vir ons in te sit? ’n Man is lus om weer ’n slag goeie musiek te hoor.” Ek laat glip die kasset in die masjien, en toe sing Bles: “Ruiter van die windjie wil ek bly, vryer as die voëltjies rondom my ...” terwyl Devontjie agtertoe oor die sitplekke klouter, en skreeu: “Milo! Milo! Oom, kan Milo nie ook maar hier voor by ons kom ry nie?” Toe vang my oog die truspieëltjie: In die Gypsey, op die slaapbank voor die venster, staan ’n groot bruin hond na ons in die Condor en kyk. Milo.
Dis nou een ding van die gesuis van ’n motor se bande op die teer: Dit maak jou bewus van allerhande nuwe moontlikhede. Toe ons by daardie windpomp en dammetjie reg teen die pad naby Gert-se-pan verby ry, neurie Louwtjie vrolik saam met Bles. In sy kop het hy klaar daardie werk by Goodyear. “Ek dink ek gaan dié keer ’n Opel koop – ’n Astra, sixteen valve,” sê hy en help homself aan nog ’n peperment. “’n Man moet wiele hê, ’n man sonder wiele is niks. Ek meen, as ’n man sy vrou movies toe wil vat, of hy wil kerk toe gaan, of hy en sy laaitie wil gaan rugby kyk, wil ’n man nie stap nie.” Die gesuis van bande op teer laat jou ook allerhande beloftes aan jouself maak. “En dié keer koop ek vir my een van daardie Home Theatre Systems,” voeg Louwtjie by. “Ek’s klaar met rondloop saans. ’n Man moet by sy family wees.” Agter hom op die sitplek sit Meisie steeds stil en brei aan daardie geel trui. Naby Witput kan ek die kind se geneul oor Milo nie langer verduur nie. Ek trap rem, swaai van die pad af en hou stil. Louwtjie gaan maak die Gypsey se deur oop. Milo is duidelik tuis op die langpad: Hy gaan lê op die Condor se agtersitplek en byna dadelik lig hy ons met ’n reukie van sy teenwoordigheid in. “Die stomme dier,” sê Louwtjie en sak weer in die sitplek terug. “Dis nie maklik vir hom nie. Maar ek het net gesê not te hel los ek my hond op Secunda.” Duskant Britstown, by die afdraaipad na De Aar, hou ek vir oulaas met hulle stil. Die son hang laag oor die vlakte. Louwtjie gaan maak Milo weer in die Gypsey toe. Ons haak die Gypsey af. Iewers in die veld roep ’n korhaan. Ek groet Louwtjie en die kind met die hand. Meisie knik net stil in my rigting en laat sak haar oë. Toe ry ek verder. Eers toe ek by die petrolpompe op Victoria-Wes uitklim, sien ek die geel trui op die agtersitplek lê. Klaar gebrei en netjies opgevou wag dit daar vir my.
UNCLE CHARLIE’S
Vir ons was dit nie sommer net vir in die Valiant klim en Pretoria of Johannesburg toe ry nie. Pa het omtrent ’n maand voor die tyd al oom Ys, sy broer wat in Germiston woon, gebel om te hoor of hy ons op daai dag en daai tyd by Uncle Charlie’s sal kom ontmoet met sy Anglia. Byna almal het in daardie jare – die 1960’s en 70’s – geweet van Uncle Charlie’s, ’n padkafee en garage net duskant Johannesburg. Die hoofpaaie uit die suide, ooste en weste het daar bymekaar gekom en vir ons rou plattelanders was dit min of meer die einde van die bekende wêreld. Nooit sou ons op ons eie verder as Uncle Charlie’s ry nie. Iemand moes ons altyd daarvandaan die grysland in begelei. In ons koppe was Johannesburg en Pretoria een plek: Die Stad – die groot onbekende. Amper soos daardie gebiede wat op ou wêreldkaarte met drake aangedui is. Pa-hulle het soms ook van Johannesburg en Pretoria as “die Rand” gepraat, asof dit ’n plek is waar jy kan aftuimel as jy te ver gaan. “Jy weet, daar word elke dag driehonderd en vyftig nuwe huise op die Rand gebou,” sou hulle sê. Of: “Op die Rand is daar elke drie minute ’n motorongeluk en elke ses en ’n half minute ’n moord.” Ons het allerhande nare dinge oor die Rand geglo: Dat dit ’n goddelose plek is waar vroue minirokke dra, Jehovagetuies jou op straat probeer werf, ’n ducktail maklik ’n skerpgemaakte fietsspeek tussen jou ribbe laat inglip, en Griekse kafee-eienaars dwelmmiddels in hulle lekkergoed spuit, wat maak dat jy altyd teruggaan om weer by hulle te koop. Ons het ook geglo die hele Rand is uitgehol oor al die gegoudmynery daar. Maar ondanks al die gevare het ons minstens een keer ’n jaar soontoe gegaan, gewoonlik in April wanneer die Randse Paasskou aan die gang was. Die aand voor ons ry, het Ouma omtrent die hele dorp gebel en afskeid geneem.
“Nee, nee, ou suster, ons sal nooit alleen in daai Gomorra ingaan nie,” hoor ek haar nog oor die telefoon sê. “Ys kry ons by Uncle Charlie’s.” Een jaar het Pa die dag voor ons sou vertrek ’n skaapveloortreksel gekoop en dit oor die Valiant se stuurwiel getrek. Dit was, vermoed ek, om te verhinder dat sy hande op die stuurwiel gly wanneer hy op sy senuwees raak en begin sweet. Ons het donkervroegoggend gery. Wanneer dit die vroegmôre-oordenking oor Radio Suid-Afrika was, het Pa langs die pad stilgehou. Oupa het sy tiervelhoed afgehaal en die Valiant se enjin het kwaai onder die predikant se gebed gekraak. Anderkant die Westonaria-afdraai, naby die Danie Theron-monument, het jy die Rand se geboue al in die verte sien lê. Dit is ook waar Oupa, wat altyd voor langs Pa in die Valiant gesit het, Psalms begin fluit het, eers sag, dan al harder, hoe nader ons aan Uncle Charlie’s gekom het.
Pa en Oupa was veldmense. Jy kon hulle in die middel van die nag in die Kalahari aflaai, sonder kos, en kalm sou hulle in die veld oorleef en hul weg terugvind na waar hulp is. Maar hulle het hierdie byna irrasionele vrees gehad om in die stad, omring deur derduisende mense en met genoeg kos en water, te verdwaal. En omdat Pa en Oupa daarvoor bang was, het ek en Ma en Ouma dit ook gevrees. Was dit bloot vrees vir die onbekende? Of was dit iets anders? Nie dat ons besoeke aan die Rand slegs met vrees gepaardgegaan het nie. Oom Ys moes Ma en Ouma altyd na die Oriental Plaza in Fordsburg neem sodat hulle rokmateriaal kan gaan koop, en ons het nie sommer teruggegaan huis toe voordat ons by Wemmerspan se waterorrel was nie. Ons het uit die droë Noord-Kaap gekom, onthou. Ons het nie eens genoeg water gehad om ’n grasperk te hê nie, en die vorige jaar het Oupa een en dertig skape weens die droogte verloor. Ek sien nog hoe staan Oupa met sy hand in verwondering voor sy mond en staar na daardie spuitende waterpluime, rooies en geles en bloues, terwyl ’n swakkerige weergawe van Orff se Carmina Burana iewers uit ’n luidspreker rammel. Van die waterorrel af is ons gewoonlik na Tiny Town toe: ’n miniatuurweergawe
van Johannesburg se middestad. Ek vermoed Tiny Town is gebou om dorpsjapies soos ons gemakliker te laat voel in die stad. Pa en Oupa het soos vrolike reuse tussen die geboutjies rondgestap en beduie, en een jaar het oom Ys – ek dink hy het ’n bier of twee te veel in gehad – sy sigaret op die Carltonsentrum se dak doodgedruk. Dis vreemd: Aan die een kant het ons hierdie vrees vir die stad gehad, aan die ander kant hierdie verwondering vir die stad se dinge. Of is “vrees” ’n te sterk woord? Was dit meer iets soos wantroue? Of agterdog? Agterdog teenoor iets wat ons op ’n manier aangetrek het? Die skouterrein was toe nog naby die Johannesburgse middestad, in Braamfontein. Op pad soontoe, terwyl Oupa ’n benoude Psalm fluit, het Ma my seker honderd keer daaraan herinner dat ek dadelik na die Total-toring toe moet gaan as ek dalk wegraak. Die Total-toring by die skou was soos ’n reddingsboei op die oop see vir ons plattelanders. In ’n hokkie onder die toring het ’n man in ’n blou-en-rooi Totalhemp gesit. As jy verlore of tydelik van jou geliefdes geskei was, het jy soontoe gegaan – of iemand het jou soontoe geneem – en dan het die man ’n aankondiging oor die luidsprekerstelsel gemaak: “Hier’s die mooiste ou seuntjie by my. Hy sê vir my sy naam is Wynandjie. Wynandjie is in trane. Hy soek sy pappie en mammie. Kan Wynandjie se pappie en mammie hom asseblief kom haal? Hy wag vir julle hier by die Total-toring.” Of: “Tant Pop Visagie van Vrede is hier by my. Sy sê sy is verdwaal. Kan haar dogter Makkie haar asseblief hier by die Total-toring kom haal?” Ek onthou allerhande dinge van die skou: By die Suid-Afrikaanse Lugdiens se stalletjie het ons lapelwapentjies present gekry: sulke goue springbokkies met vlerke. Ek en Pa en Oupa het ons s’n aan ons pakke se lapelle vasgesteek en só kerk toe gegaan. In een van die uitstalsale, by ’n stalletjie van die Departement van Gesondheid, het twee mense se longe in versterkwater in twee glastenkies gehang: Een paar longe was ’n nieroker s’n, die ander dié van ’n roker. “Sien, dis waarom jy nie moet rook nie,” het oom Ys gesê, aan sy Gold Dollar gesuig, en beduie na die paar longe wat soos gebraaide marshmallows gelyk het. Die Paasskou was die naaste wat ons aan ’n besoek aan die buiteland sou kom.
Dit was immers ’n internasionale skou, al het Suid-Afrika toe maar min vriende gehad. Portugal, Taiwan, Paraguay, Lesotho en die Transkei, elk van dié lande het ’n uitstalsaal gehad, tradisioneel gedekoreer. Ons het deur daardie sale gestap asof dit die lande self was. Die Taiwannese het ’n Taiwannese restaurant gehad, en een middag het ons daar geëet. Ek onthou nie wat ons bestel het nie, maar dit was maar ’n gesukkel om dit met daardie stokkies in ons monde te kry. Ná die ete het Ouma een van die Taiwannese kelnerinne nader geroep en in Afrikaans vir haar gevra: “Kan jy nie asseblief vir die oubaas ’n nat lappie bring om sy hande mee af te vee nie?” Die vrou het nie mooi verstaan nie. “Ek sê: Bring asseblief vir die oubaas ’n nat lappie.” Die Taiwannese vrou het steeds nie verstaan nie, toe tjip Oupa ook sommer in: “Kan jy nie hoor wat die miesies sê nie? Bring. Vir. My. ’n. Nat. Lappie.” Ek dink dit was die jaar toe oom Ys te lank in die biertuin gekuier het. Of nee, oom Ys het te lank in die biertuin gekuier die jaar toe Pa vir Ma die Lowreyorrel gekoop het. Huisorrels was toe die in-ding. Almal wou soos John Massey speel. Hy het altyd uitvoerings by die Lowrey-stalletjie op die skou gegee en liedjies soos “Groen koringlande” en “Spanish Eyes” op die orrel gespeel. Ons het die nuwe orrel sommer boks en al op die Valiant se dakrak gelaai, maar toe ons oom Ys soek, was hy weg. Pa het laat die man in die Total-toring afkondig, maar op die ou end het hulle hom in die biertuin opgespoor, lekker aan die kuier. “Vat ons net terug Uncle Charlie’s toe.” Oupa het sy vuis kwaai in oom Ys se rigting geskud. “Nou maar fyn pikkewyn,” het oom Ys gesê toe hy ’n rukkie later agter die Anglia se stuurwiel inwip. “Follow the leader.” En toe laat waai oom Ys, met tollende bande.
Ek sal nie vertel hoe Pa daardie dag terug Uncle Charlie’s toe deur die verkeer by oom Ys probeer bly het nie. Dit sal ons net na groter bekvelders laat klink. Oupa het die Psalms later nie meer gefluit nie. Hy het dit hardop gesing: ‘Al dreig die vyand met die dood, al storm sy leërbendes aan ...” Oor ’n rooi verkeerslig, al agter oom Ys aan. “Al word ons hier omgeef, ons sal nie beef of rugwaarts gaan ...” Terwyl Pa se kneukels wit aan daardie skaapveloortreksel om die Valiant se stuurwiel klou en die Lowrey heen en weer op die dakrak skuif en Ma aanhoudend sê: “My orrel, my orrel.” Daardie dag het die Rand werklik vir my gevoel soos ’n rand waaroor ons enige oomblik kon tuimel.
Onlangs, op pad terug van Potchefstroom af Pretoria toe, het ek op die ingewing van die oomblik weer by Uncle Charlie’s afgedraai. Dit was ook nie so maklik nie. Ek moes ’n hele ruk soek voor ek Uncle Charlie’s gekry het. Die wêreld daar is nou die ene snelweë en verleggings en nuwe geboue. Die ou padkafee bestaan nie meer nie. Daar is wel nog ’n garage, maar niks daar is meer dieselfde nie. Ek het teruggery snelweg toe, sonder om stil te hou, terug in die drie bane verkeer, terug na Pretoria waar ek nou al meer as twintig jaar woon.
16 DESEMBER
Elke jaar op 16 Desember het ons die Geloftefees-byeenkoms op die Vaalbosfeesterrein buite ons dorp bygewoon. ’n Week voor die tyd het oom Swart, voorsitter van die Geloftefees-komitee, en ’n span werkers die terrein gereed gemaak: die kweek en bossies uitgeskoffel, die wieletjie bo-op die vlagpaal geolie, en die rooibye uit hulle neste onder die saal se dak gerook. Eintlik was dit nie regtig ’n saal nie. Dit was ’n tamaaie afdak en ’n sementvloer met ’n kombuis aan die agterkant. Almal het hulle eie stoele saamgebring – almal behalwe oom Jassie wat altyd eenkant gestaan het, skuins gestut teen ’n sitkierie. Die mans het pakklere gedra en die vroue hoede, en elke jaar is die baie bejaarde tant Breggie Stols, uitgevat in ’n Voortrekkerrok en -kappie, deur ’n verpleegster nader gelei en op ’n riempiestoel heel voor in die saal geïnstalleer. Tant Breggie was as kind in die konsentrasiekamp by Norvalspont en elke jaar moes sy vertel hoe die Engelse soldate glasstukke in die mieliemeel gegooi het. Oom Jassie het die Steinway-klavier uit die kerksaal soontoe gebring met sy Chev-bakkie en voor die tyd het ons afgerolde programme ontvang waarop die verloop van die verrigtinge uitgestippel is: Verwelkoming. Vlaghysing. Diens. Rede. Daardie jare was daar nie toesprake op Geloftefees nie: ’n Rede is gelewer. Op dorpe soos ons s’n was dit dikwels ’n adjunkminister wat die rede kom lewer het. Hy het in ’n swart Mercedes daar aangekom, vergesel van ’n borselkoplyfwag. Mevrou Dokter Nel het ’n angelier aan sy lapel vasgesteek terwyl oom Jassie goed sê soos: “As ons als moet weet wat daai man weet, slaap ons nie snags nie.” Of: “Hy’s ’n baie plat op die aarde mens, die minister.” Oom Swart het min of meer almal behalwe die tortelduiwe in die bome verwelkom, dan het oom Badie nader marsjeer in sy Voortrekkeruniform, sy Hou
Koers-gordel styf om sy maag gespan, met twee verkenners, ’n seun en ’n meisie, agterna. “Liek-ja. Liek-ja. Halt. Stuit. Een, twee.” Dan het oom Badie beveel: “Maak gereed om die vlag te hys!” Dan het die seun en meisie nader aan die vlagpaal getree en die tou losgemaak, waarna oom Badie gebulder het: “Hys die vlag! Ontplooi die vlag!” Daarna het Willempie, wat jare later ’n verhouding met ’n bekende manlike Kaapse modeontwerper sou hê, sy trompet gelig. Dan het ons die vlaglied gesing: “Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra: ‘Wat beteken jou vlag dan, Suid-Afrika’?” Daarna het Oudominee orent gekom en gepreek van die wonderwerk wat daardie dag by Bloedrivier gebeur het: 43 000 Zoeloes deur voorlaaiers gedood; een Trekker lig deur ’n assegaai gewond. (Die getalle kan verkeerd wees, maar dis hoe ek dit onthou.) Daarna was dit ’n bie-sondere voorreg vir oom Swart om die minister aan die woord te stel. Dit het ’n goeie adjunkminister meer as ’n uur geneem om die rede te lewer, en natuurlik is die woord “kommunis” geil gebruik en natuurlik is verwys na die Afrikaner se roeping in Afrika, terwyl die dakplate kraak in die hitte en oom Lieb in vervoering luister en aantekeninge in ’n boekie maak, tant Hester haar koel waai met haar program, ’n geitjie teen die muur uitskarrel, oom Jorrie in sy strandstoel sit en slaap, vae kampherinneringe in tant Breggie se brein roer, oom Seef ’n vlieg doodklap, ’n baba in die derde ry van agter begin huil, die meisies hoopvol na die minister se lyfwag staar en die koffiewater begin kook in die groot, silwer urn in die kombuis. Nadat die minister gaan sit en sy natgeswete gesig met ’n sakdoek afgevee het, het tant Sophie, wat eens op ’n tyd kortstondig lid van André Huguenot se toneelgeselskap was, die gelofte voorgedra: “Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ’n gelofte aan Hom te doen, dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ’n dankdag soos ’n Sabbat sal deurbring, en dat ons ’n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die eer van sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.”
Word daar steeds op 16 Desember Geloftefees by die Vaalbosfees-terrein gehou? Ek wonder. Ek was jare laas daar of by enige ander Geloftefees. Wat het van toe tot nou met my gebeur?
GEESTELIKE WEERBAARHEID
God het ons, die Afrikaners, met ’n bepaalde doel hier aan die suidpunt van Afrika geplaas. Die Kommuniste wil die wêreld beheer, en Elvis Presley moedig die jeug met sy lang hare en wiegende heupe aan om teen alle gesag in opstand te kom. Swart mense aanbid voorvadergeeste en het nie die wiel uitgevind nie. Dit is sonde om op Sondae te swem en koerante te koop, want die Bybel sê op ’n Sondag moet jy rus. Bram Fischer het bomme geplant en verhoudings met swart vroue gehad, Jan van Riebeeck het Die Beskawing na Afrika gebring en vir Harry die Strandloper ’n spieël gegee; en die Beatles se liedjie “Lucy in the Sky with Diamonds” staan vir LSD. Die dag wanneer die Kommuniste oorneem, gaan hulle jou slegs een ding vra: “Glo jy aan die Here?” En as jy sê “ja” gaan hulle jou in ’n donker tronk onder die aarde gooi waar jy vir maande gaan sit en net van brood leef terwyl daar aanhoudend water op jou drup-drup-drup, totdat daardie gedrup-drup-drup jou later mal maak en jy begin skreeu. Dan haal hulle jou uit die tronk, sit ’n stomende bord kos voor jou neer, en vra: “Glo jy steeds aan die Here?” As jy sê “ja” gooi hulle jou terug in die tronk. As jy sê “nee” laat hulle jou uitkom, maar dan gaan jy eendag wanneer jy doodgaan, hel toe. Om Springbokradio te luister en Chappies te kou, maak jou permissief, en as jy permissief is, is jy ’n maklike prooi vir die Kommuniste, want die Kommuniste gebruik die permissiewe jeug – en die swartes – om hulle vuil werk vir hulle te doen. Dit is gevaarlik om na Neil Diamond-plate te luister want as jy sy plate agteruit speel, is daar allerhande verskuilde boodskappe wat jou onderbewuste indring en jou dinge laat doen wat jy nie regtig wil doen nie.
Die Mosambiekse president Samora Machel se naam het ’n dieper betekenis. Die SA-MO-R-A staan vir Suid-Afrika, Mosambiek, Rhodesië en Angola. SuidAfrika is die enigste van daardie lande wat nog nie ’n swart president het nie, dit beteken ons is die laaste vesting teen die Kommuniste in Afrika. Onder Jan Smuts-lughawe se aanloopbaan word ’n paar eskaders vegvliegtuie gebêre; en as al China se inwoners op dieselfde oomblik in die lug spring en weer op hul voete land, is dit genoeg om die aarde uit sy wentelbaan te ruk. Die Springbok-vleuel, Chris Pope, is ’n Kommunis want hy studeer op Ikeys en neem aan politieke optogte deel. Dis goed om ’n swart taal te leer praat want dan kan jy hoor wat sê hulle agter jou rug van jou, en die Vrymesselaars is anders as die Rapportryers, die Vrymesselaars wil saam met die Kommuniste die wêreld beheer. Die Illuminati, weer, is nog magtiger as die Vrymesselaars en die Kommuniste. Hulle – die Illuminati – is twaalf mans wat in Amerika sit en hulle het slegs een doel voor oë: wêreldoorheersing. Prins Philip van Engeland is ’n grootkop in die Illuminati, asook die Rothschilds van Amerika. Generaal Jan Smuts was ook tot met sy dood deel van die Illuminati, daarom is dit goed dat hy die verkiesing in ’48 in Standerton verloor het. Sodra die Illuminati in beheer van die wêreld is, sal jy die nommer 666 op jou arm moet laat tatoeëer as jy iets wil koop. En as jy dit doen, verloën jy God en gaan jy hel toe. Of nee, jy gaan nie net hel toe nie, jy gaan vir ewig hel toe. Dink aan ’n berg so groot soos Tafelberg, maar dit is van diamant gemaak. Sê nou een keer per jaar kom ’n voëltjie en vryf sy bekkie slegs een keer teen daardie berg. Die tydperk wat dit daardie voëltjie sal neem om die hele berg met sy bekkie weg te slyp, is soos een sekonde van die ewigheid. Daarom is dit belangrik om paraat te wees en jou vyand, veral die Kommuniste en die Illuminati, te ken. Jy moet ook onder meer in staat wees om ’n tou op ses verskillende maniere te knoop as jy in tye van nood in die veld wil oorleef: Jy moet die skuifknoop kan maak, die vissersknoop, die voorslagknoop, die kniehalterknoop, die skenkelknoop en die booglynknoop. Jy kry vier soorte wonde: skaafwonde, snywonde, skeurwonde en steekwonde, en onthou, dit is belangrik om kepies in jou toonnaels te knip as jy ingroeitoonnaels het, en die korrekte woord vir “riemruk” is selfbevlekking.
Moet vir twee ure ná maaltye glad nie swem nie, jy kan maklik maagkrampe kry en verdrink. Onthou ook: Jy is die oë en ore van die polisie. Fotoboekiehelde soos Ruiter in Swart maak ’n bespotting van die Afrikaner, want geen Afrikanerheld sal soos Ruiter in Swart sy hond Midnight noem en vir ’n ou sê: “Vat so, jou niksnuts!” voor hy hom slaan nie. Meisies wat sulke lapskoenlappers en -appeltjies op hul denimbroeke dra, is “maklik” en hulle moenie verbaas wees as hul verkrag word nie. Dit alles het ek in 1975 op ’n veldskool van die destydse Transvaalse Onderwysdepartement in die Soutpansberg wys geword.
DE AAR
Onlangs kom ek toe weer op De Aar se stasie. Die plek het agteruit gegaan, het ek gou besef. Oral lê rommel rond en van die geboue is geplunder: die dakplate en vloerplanke verwyder, die kosyne en vensterrame uitgebreek. Die kroeg, die befaamde Bar op De Aar, bestaan ook nie meer nie. Ook nie die stasierestaurant nie. En nêrens was ’n mens te sien nie. Ek het lank op die perronne – daar is vier – rondgestap en probeer dink hoe dit gelyk het toe ek die eerste keer daar was. Ek was tien jaar oud en het saam met Ouma by oom Kerneels en tant Mary, wat naby Britstown geboer het, gaan kuier. Die perronne was daardie dag vol mense: asiers en kruiers in swart baadjies en onderbaadjies met swart pette en waentjies waarvan die twee wiele in die middel gesit het, en oor die luidspreker het ’n hol stem die volgende vertrekkende trein aangekondig: Sloskloesbibber-HanoverboeboejasskouveerMiddelburg.” In al die jare van toe tot nou kon ek nog nooit hoor wat stasie-aankondigers sê nie. Ek en Ouma het op een van die agterste perronne afgeklim, oral was die lawaai van treine wat shunt en fluitjies wat blaas, en by ’n ry tiekiebokse het mense staan en beduie asof iemand iewers iemand gerus wou stel. ’n Kruier het ons koffers en Ouma se vanity case kom vat, en ons het deur die tonnel gestap wat onderdeur die spoorlyne gaan. En toe, reg voor ons teen een van die geboue, het groot geverf gestaan: Maak jou gereed om jou Here te ontmoet. Dit onthou ek die beste. Dis ook hoe dit toe op De Aar-stasie vir my gevoel het: Dit is ’n belangrike plek dié, waar mense aandoen op pad na belangrike bestemmings. En dit was nogal so. Omtrent elke langafstandtrein in die land het deur De Aar geloop: op pad Kaap toe, Johannesburg toe, Port Elizabeth toe, Oos-Londen toe, Kimberley toe, Bloemfontein toe, Durban toe, Suidwes-Afrika toe.
Sommige mense het selfs beweer naas Germiston het De Aar die besigste stasie in die land. Dit was voor die huidige era van padvervoer: 1 800 motors per uur deur Colesberg op ’n Paasnaweek en hordes vragmotors wat duike in die teer trap. Baie mense het toe nog trein gery en hul goedere en goed per trein laat karwei. Oom Kerneels en tant Mary het voor die sinjaalkamer vir ons gewag. Binne het ’n man in ’n blou uniform voor sulke lang hefbome gesit en oor die perron het ’n ander man aangedraf gekom. Hy het ’n bruin oorpak aangehad en in sy hand was ’n hamer waarmee hy teen elke treinwiel geklop het, “pieng-pieng-pieng, piengpieng-pieng”. Dit was ’n wheel-tapper. Sy voltydse werk was om teen elke inkomende trein se wiele te klop en aan die geluid te oordeel of daar nie dalk ’n kraak in die wiel is nie. Oom Kerneels het hom gegroet: “Dag, Driesman, hoe gaan dit?” Driesman het strammerig orent gekom, sy hand in die waai van sy rug: “Nee wat, my oom, dis weer net werk, werk, werk vandag.” Voor ons in oom Kerneels se Chev Impala plaas toe is, het ons eers in die stasie se restaurant gaan eet: pie-en-gravy – die lekkerste pie-en-gravy waaraan jy kan dink. Die pastei was tuisgebak met regte Karoo-vleis in, en dik, soige sous, en eenkant ’n pers spatseltjie beetslaai. Jy het dit met ’n silwer Sheffield-mes en vurk geëet, op ’n Royal Dalton-bord, op ’n tafel met ’n wit gestyfde tafeldoek. Terwyl ons aan die eet was, het ’n man met net een arm voor die venster verby gestap. Hy het ’n bruin uniform aangehad en in sy enigste hand het hy ’n silwer skofboks gedra. “Foei tog,” het tant Mary gesê. “Dis ou Swanepoel. Hy het een nag tussen twee treine in die shunting yard beland.” Dit was nie die laaste keer dat ek pie-en-gravy op De Aar geëet het nie. Oor die jare heen het ek sporadies trein gery: na oom Kerneels-hulle toe, Kaap toe, of tot op Touwsrivier waar ek ’n meisie gehad het. In 1982, ek dink dit was in September, was ek ook op De Aar-stasie, in ’n troepetrein op pad na die destydse Suidwes-Afrika – op pad Grens toe. Maar daardie dag het ek nie pie-en-gravy geëet nie. Ek en Charlie Gagiano, wat saam
met my in die peloton was, het in die kroeg gaan sit en cane, ion fruit en lemonade drink terwyl ons gewag het vir ’n aansluiting Noorde toe. Dit was ’n bewolkte, triestige dag. Of miskien onthou ek verkeerd. In September is dit gewoonlik warm op De Aar. Bewolkte, triestige dae in die verlede word nooit sonskyndae wanneer jy daaraan terugdink nie. Ná die tweede of derde cane, ion fruit en lemonade, het ek by ’n tiekieboks op die perron huis toe gaan bel. Pa en Ma was nie tuis nie. Ek het maklik tien minute met Sheila, die vrou wat in ons huis gewerk het, oor die telefoon gepraat en toe ek terugkom in die kroeg, sit Charlie Gagiano daar met ’n boek, Inleiding tot die abnormale sielkunde – dit, as ek reg onthou, was die boek se titel. Charlie het dit by sy suster wat B.A. op Tukkies geswot het, geleen en in sy balsak saamgebring. “Hier’s die antwoord, buddy,” het hy gesê en die boek voor ons op die toonbank oopgeblaai. “Kies vir jou ’n siekte.” “Wat bedoel jy?” Ek het na die diagramme in die boek gekyk. “Dis easy, buddy: Hier beskryf hulle die crazy siektes. Kom’s kies elkeen een, dan swot ons dit op en maak of ons dit het. Maybe stuur hulle ons huis toe.” Ek het besluit ek wil ’n katatoniese skisofreen wees. Dit het vir my die maklikste geklink om na te maak, want katatoniese skisofrene praat glo nie, hulle sit net en staar stil voor hulle uit. Charlie wou aan ’n manies-paranoïese versteuring ly. Of so iets. Hy het manies begin grynslag, nes Jack Nicholson in One Flew over the Cuckoo’s Nest, en goed gesê soos: “Sien jy daai ou daar in die hoek, buddy. Ek dink hy tape ons gesprekke.”
Dit is dwaas om te wil hê dinge moet dieselfde bly. Die lewe is verandering. Miskien word De Aar-stasie – en al die ander vernielde stasies in die land – eendag opgebou. Ek hoop so. Maar ’n groot gedeelte van ’n mens is jou herinneringe, en ek wil myself ken.
Daarom het ek nou die dag meer as ’n uur daar op De Aar-stasie rondgestap en probeer dink hoe dit eens op ’n tyd was – ook hoe ek eens op ’n tyd was. Ek het slegs met een mens gepraat terwyl ek daar rondgestap het – nie dat daar baie was om mee te praat nie. Hy was ’n sinjaalmeester en het op een van die afgeskilferde hortjiesbanke op die perron gesit. “Shunt hier nog treine saans?” het ek hom gevra. “Net soms.” Die klank van treine wat shunt – dis ’n klank wat ek van altyd af ken. Jy is klein, jy lê warm in jou bed en slaap. Dan, diep in die nag, word jy wakker van goed wat in die verte teen mekaar stamp en enjins wat brul en fluite wat blaas. Eers skrik jy daar in jou bed, maar dan weet jy jy is veilig. Dis net die treine op die stasie wat shunt. Mislei mens se herinneringe jou nie soms nie? wonder ek dikwels. Was daardie pie-en-gravy wat in die restaurant op perron 4 bedien is, regtig so lekker? Of is dit nou vir my belangrik dat dit lekker moes gewees het? Het ek nou die dag nie eintlik maar na my verlore onskuld daar op De Aar se stasie gaan soek nie? Ek en Charlie Gagiano het daardie middag in 1982 tot laat in die stasiekroeg gesit en cane, ion fruit en lemonade drink. Een van die ander ouens in ons peloton het later kom sê: “Korporaal Venter gaan ons almal opfok as julle nie nou kom nie.” Ons het ons nie aan hom gesteur nie. Charlie het sy Jack Nicholson-grynslag geflits en ek het katatonies voor my uit gestaar. Later hét korporaal Venter gekom, al 5 voet 3 duim van hom, gillend: “Ek tel drie, dan is julle op die dubbel, troepe! Ek sal julle borskaste ooppluk en op julle longe kak, lees julle my! Ek sê: Lees! Julle! My! Wil julle hê Swapo moet jul susters kom verkrag?” Ek het voor my bly uitstaar. “Is dit ’n kamera wat jy daar het, korporaal?” het Charlie gevra en na korporaal
Venter se sakke beduie. “’n Kamera? Is jy fokken mal, Gagiano? Ons is nie op pad fokken Margate toe nie.” “Dis ’n kamera daai, korporaal. Kom uit met die waarheid.” Toe klap korporaal Venter Charlie bo van die stoel af en uit sy manies-paranoïese versteuring uit. Ons is kort daarna terug trein toe, ek en Charlie. Op die dubbel. Twee dae later het ons met die trein op Grootfontein in die noorde van Suidwes aangekom, van waar ons agterop Samil 20-vragmotors na die operasionele gebied geneem is. Die tweede dag daar bo het ek die eerste keer ’n lyk gesien. Ek was toe agtien jaar oud.
SOLITARY MAN
Nou die aand bel Floors met die nuus: Borrie Borman is dood – Borrie met die holte in die kop groot genoeg om ’n dubbele tot rum in te skink. Borrie het die laaste paar jaar in ’n rondawel op Katima Mulilo in die Caprivi gewoon. Hy het gesukkel om in die gewone lewe in Suid-Afrika aan te pas nadat hy een middag in 1985 tydens ’n skermutseling met Kubaanse en Swapomagte in Angola in die kop gewond is. Ek en Borrie het net een keer saam gekuier, in ’89, in die Hippo Lodge op Katima se kroeg. Die oorlog was vir die meeste van ons toe al verby. Ek was op pad na Barotseland in Wes-Zambië en het die middag in Katima stilgehou om vir Borrie te gaan sê Floors stuur groete. Die twee was saam in die army, in dieselfde peloton. Borrie het daardie middag Red Heart Rum en Coke gedrink, met ’n skyfie suurlemoen in. Hy het die skyfie self met ’n steak-mes gesny, uit ’n suurlemoen wat in ’n piering op die toonbank gelê het. Neil Diamond se plaat Hot August Night het op die hi-fi gespeel. Ek ken omtrent die hele Hot August Night uit my kop. Dit is ’n opname van ’n live show wat Neil op 24 Augustus 1973 in die Greek Theatre in Los Angeles gegee het. Pieta Nel het dit in 1975 die eerste keer vir my op hul plaas naby Crecy op die Springbokvlakte gespeel. Ons was toe in standerd 5 en in daardie stadium was dit die opruiendste musiek wat ek al gehoor het. Op kant 1 sing Neil in dieselfde liedjie (“Done too soon”) van Jesus en Patrice Lumumba. Die liedjie ná “Done too soon” is “Solitary Man”. Maar voor Neil “Solitary Man” sing, heet hy eers almal welkom – ook ’n klomp mense wat skynbaar in bome langs die Greek Theatre, ’n opelugteater, gesit het. Ek ken daardie woorde uit my kop: “Thank you, people in the audience, and the tree people out there, God bless you, I’m singing for you too ...” Borrie het ook daardie woorde geken. Hy het dit die middag in Hippo Lodge
hardop saam met Neil gesê. Ek het hoendervleis gekry want ek was opeens terug in ’84 in die operasionele gebied naby Ombalantu. Ek was besig met my militêre diensplig en die middag laat was ons in ’n kontaksituasie in die bos. Skote het geklap. Mense het in die stof geval. Versterkings is ingeroep, en later was daar nie meer skote nie. ’n Helikopter het gewondes kom oplaai. Ons peloton het op die grond langs ’n Buffel gesit, en iewers in die donker het een van die ouens in een van die ander pelotonne daardie woorde van Neil hardop gesê: “Thank you, people in the audience, and the tree people out there, God bless you, I’m singing for you too.” Dit was eienaardig. Oorlog is eienaardig. Of “eienaardig” is seker nie die regte woord nie. Maar wat is die regte woord om oorlog mee te beskryf? Is oorlog nie miskien anderkant woorde nie? Ek het die middag in die Hippo Lodge nie vir Borrie gevra of dit hy was wat daardie aand daar in die donker naby Ombalantu ou Neil se woorde gesê het nie. Ons het oor allerhande simpel goed gesels, ek en hy: rugby en visvang en meisies, en later het ek gegroet en gery. Ek het nie eens die holte in Borrie se kop gesien nie, want hy het die hele tyd ’n verbleikte boshoed opgehad. Alles wat ek verder van Borrie weet, het ek by Floors gehoor. Soms, laat in die aand, bel Floors my, en dan is hy dronk en effe poëties, en soms vertel hy my van Borrie. Borrie is kort ná die oorlog getroud en vier maande later weer van sy vrou geskei, sê Floors. Ná die egskeiding het hy op Katima gaan woon. Hy het ’n boot gekoop en mense op toere op die Zambezirivier geneem. Borrie het heen en weer in die Caprivi begin beweeg asof hy op soek was na die mens wat hy eens op ’n tyd was, sê Floors. Hy het soms vir Borrie gebel, sê Floors, maar dit was moeilik om met hom oor die telefoon te praat. Dit was asof Borrie se tong heel eerste begin doodgaan het. Die laaste ruk het Borrie min gepraat en dikwels nie uit sy rondawel gekom nie, sê Floors, en wanneer Borrie homself aan mense voorgestel het, het hy gesê: “Hallo, ek was Borrie Borman toe ek nog gelewe het.”
Kort voor Borrie se dood, sê Floors, het ’n klomp van sy buddies vir hom op Katima gaan kuier. Hulle het glo gebraai en gekuier en gekuier en probeer onthou wat hulle al vergeet het; en laat die nag het Borrie elkeen glo toegelaat om ’n dubbele tot rum in die holte van sy kop te gooi en dit te drink. Floors het nou die aand oor die foon nie vir my gesê hoe Borrie dood is nie. Ek het hom ook nie gevra nie.
JOB INTERVIEW (2006)
“Well, Sir, according to your CV you matriculated in 1980?” “Yes, Mrs Khumalo.” “Moreover, you played some rugby?” “Yes, Ma’am.” “And you were an active member of the shooting club?” “Yes, Ma’am.” “What did you shoot at, Sir?” “We only shot target, Ma’am.” “Why, were you practising to shoot people at a later stage?” “No, Ma’am.” “Then, what was the necessity for having a shooting club, Sir?” “For us it was just something like a sport, Ma’am.” “You also mention in your CV that you were a Voortrekker. Could you please enlighten me on this phenomenon called the Voortrekkers, Sir? Evidently a man of your age could not have participated in the Great Trek?” “It’s a cultural organisation for children, Ma’am.” “What was the mission of the Voortrekkers? Did you travel by ox-wagon?” “No, Ma’am. We just went on camps and stuff.” “What was the nature of your activities during those camps? Preparing for war?”
“No, Ma’am. We learned how to live in the veld ... and we did some drilling ... and went on night marches ... and learned how to make different knots in a rope, Ma’am.” “Knots in a rope? To what purpose?” “To use in time of trouble, Ma’am.” “Furthermore, it is mentioned in your CV that you were a member of the former South African Defence Force.” “Yes, Ma’am.” “For a period of two years?” “Yes, Ma’am. For two years, Ma’am.” “Tell me, Sir, please tell me: What is the significance of all these activities mentioned in your CV?”
KUBEROUMA
Ben het gevra of ek nie vir hom ’n foto van sy ma in die ouetehuis sal gaan neem en dit vir hom e-pos nie. Australië toe. Perth toe. Hy wil dit vir sy twee kinders, Brett (4) en Samantha (2), wys sodat hulle darem kan sien hoe lyk hul ouma Tokkie deesdae. Ek vermoed Ben wil ook sien hoe sy lyk. Hulle het agtien maande gelede Perth toe geëmigreer, hy en Selma en die kinders. Sedertdien was hulle nie weer in Suid-Afrika nie – al sal jy dit nie sê wanneer jy Ben se gereelde e-posse aan my en sy knaende briewe aan SuidAfrikaanse koerante lees nie. Hy het ’n mening oor min of meer als wat hier by ons aangaan: van die Zuma-hofsaak tot by Pretoria se Tshwane-word. Ek en Ben was vir ’n ruk op dieselfde dorp op skool. Goed, het ek gesê, ek sal die foto gaan neem, in-scan op die rekenaar en vir hom e-pos. Sondagmiddag ry ek toe na tant Tokkie toe. Ouetehuise soos die een waarin sy is, maak my bang. Wat is dit wat ’n mens als in daardie gange ruik? Medisyne? Snuif? Piepie? Gekookte hoender? Talcum powder uit die 1960’s? En oral op hortjiesbankies sit mos oues vir jou oor hulle kieries en looprame en staar, asof hulle vir jou wil sê: Wag maar, wag, jou dag kom. Tant Tokkie, wat onlangs 78 geword het, se woonstelletjie is aan die onderpunt van die gang: ’n sitkamertjie, slaapkamer en badkamer, en ’n kombuisie. Die deur staan oop toe ek daar kom en tant Tokkie met haar bollatjie sit op die bal-en-klou-stoel by die venster. By haar voete staan ’n mandjie met breiwerk en op die tafeltjie langs haar lê twee boeke: ’n Bybelgids van Maretha Maartens en Nan Henning se roman Eensame reisiger. Ek hou haar koue hand ’n paar oomblikke in myne, sit toe my kamerasak by die stoel langs die showcase neer. Maar ek gaan sit nie. “Tannie het darem mooi goed hier.” Ek gaan staan voor die showcase.
In al die huise van my verlede was showcases nes tant Tokkie s’n, en in omtrent almal was teelepeltjies met dorpswapens op die steel, poedingbakkies met die Voortrekkermonument op, miniatuurkoppies en -pierings, Zoeloeskildvelletjies en -assegaaitjies wat in Durban gekoop is, en ’n porseleinbeeldjie van drie bobbejane, een met sy voorpote oor sy mond, een met sy pote oor sy oe, en een met sy pote oor sy ore: Ek praat nie, ek sien nie, ek hoor nie. “Ja, ou kind,” sê tant Tokkie toe ek oorkant haar gaan sit. “So gaan dit maar.” Skuins bokant haar hang ’n boemerang teen die muur – ’n Australiese boemerang. Ben-hulle moet dit Kersfees vir haar gestuur het want dit het ’n rooi strikkie en ’n kaartjie aan waarop staan Merry Christmas. Maar ek vra tant Tokkie nie uit oor die boemerang nie. Ek vra of sy gehoor het Ben-hulle wil dalk in Oktober kom kuier. Sy sug en sê, ja, Ben sê die kinders word nou groot. Ja, sê ek, ek hoor Ben sê die kinders word nou groot. Toe vra sy of Ben my vertel het hulle sluit nie snags in Australië nie. Ja, sê ek, Ben het my ook vertel – al dikwels. Hy skryf dit ook gereeld in sy koerantbriewe. Toe kom tant Tokkie regop, stadig, want die ou bene lol deesdae, en sukkel die kombuisie in. Ek stap saam. Teen die muur hang die gipsspreuk tussen ’n spul duiwe, takkies in die bek, wat eens op ’n tyd in soveel huise gehang het: Ek en my huis, ons sal die Here dien. Tant Tokkie maak vir ons tee – rooibostee in Noritake-koppies – en ons gaan sit weer in die sitkamer. ’n Hele ruk sit ons in stilte daar. Toe, opeens, sê tant Tokkie: “Jy sal nooit verstaan wat in ’n moeder se hart aangaan nie, kind.” Sy lig die koppie uit die piering maar sit dit omtrent dadelik weer neer en kyk na my. Toe begin sy geluidloos huil. Dit is al laatmiddag. ’n Flou streep sonlig lê oor die mat tot teen die oorkantste muur waarteen ’n paar portrette hang: Ben op sy gradeplegtigheid, Ben op sy troudag, Ben se kinders met die Engelse name op ’n strand iewers. Nie lank daarna nie is ek daar weg. In my rekenaar se inbox lê drie e-posse van Ben, maar ek het dit nog nie gelees
nie.
HALF-LONDON
Alphonse Hope Nsanze is in November uit Ngozi, ’n dorpie in die noorde van Burundi, weg nadat hy die soveelste keer vir sy ma verduidelik het hy moet suid gaan want dis waar die geld is. Hy het ’n seilsak by hom gehad en binne-in was nie veel nie: twee langbroeke en drie hemde, ’n tandeborsel toegerol in ’n waslap en ’n trui met die gesig van die Brasiliaanse sokkerster, Ronaldo, op. In die sysakkie was sy paspoort, ’n paar ander vuilgevatte dokumente, en die geld wat hy so lank gespaar het deur met piesangs te smous: altesame 700 000 Burundiese Frank (sowat R450). Buite Ngozi het ’n Coke-lorrie hom opgelaai en dit het hulle ses ure tot in Bujumbura, die hoofstad by die Tanganyika-meer geneem, skommel-skommel deur die slaggate in die pad. Daardie aand het hy langs die meer onder ’n boom geslaap. Die volgende dag sou ’n boot na die suide vertrek, ’n afgeleefde Eerste Wêreldoorlog-steamer wat eers na Kigoma in Tanzanië vaar, daarvandaan na Mpulungu in Zambië, ’n afstand van 730 kilometer, met 1 000 mense aan boord, al is daar eintlik slegs vir 500 plek. Alphonse Hope Nsanze het op die dek geslaap en drinkwater met ’n leë bottel aan ’n tou uit die meer gehys. Vier dae lank het hulle suid gevaar. Of was dit nou vyf? Êrens op sy tog suid het die onderskeid tussen een dag en ’n ander vir hom betekenis verloor. Al wat saak gemaak het, was om suid te gaan, al hoe verder suid, na die plek toe wat die mense Half-London genoem het. Halfpad soos Londen, maar nog nie heeltemal Londen nie. By die Zambiese grenspos op Mpulungu het hy ure in die son in ’n ry gewag, en toe hy eindelik voor by die hek was, het ’n soldaat hom hard met sy AK47 se kolf in die maag gestamp. Wat kom maak hy hier? Is hy ’n Hutu? Wil hy kom moeilikheid maak?
Hy kom koop net gedroogde kapentavissies, het hy volgehou, dieselfde dag nog op ’n bus geklim en verder suid gegaan, tot op Mpika, waar hy die hele middag in die koelte langs die Roomse kerk gelê en slaap het. Die aand laat het hy op die trein geklim, derdeklas, tot op Kapiri Mposhi. Toe het hy 70 000 kwacha uitgehaal vir ’n bus tot op Livingstone by die Botswanagrens. Daar het hy snags in ’n stegie geslaap en later ’n man gekry wat hom saam met twee ander wat ook suid wou gaan, ’n paar nagte in ’n buitekamer laat slaap het. Hy het die man 100 000 kwacha betaal en een nag het die man hulle kom wakker maak en vir hulle beduie om agter die sakke vol meel op ’n lorrie in te skuif. Hulle het gery en later stilgehou, toe was daar stemme, toe het hulle weer gery. Toe was hulle op Kasane in Botswana, van waar hy ’n lift agter op ’n beeslorrie gekry het, meer as 800 kilometer ver, tot op Sherwood. Daar het hy twee koeldrankbottels vol water gemaak en in die bos gewag tot dit donker word. Toe het hy begin stap en gestap en gestap, oor die grens, tot in Suid-Afrika. Toe was daar nog ’n lorrie. En nog dae en nagte. En ’n bakkie. En ’n bus. Net toe dit vir hom begin voel asof daar nie regtig ’n suid is nie, het hy een middag deur die ruit van ’n vol taxi ’n klomp geboue in die verte gesien. Pretoria. Half-London. Nou staan Alphonse Hope Nsanze elke dag by ’n verkeerslig in Schoemanstraat en probeer swart, rooi en geel plastiekhangers aan my verkoop wanneer ek daar stilhou.
FABIAN VAN DER MERWE WIL MOVE
Sorrie ek pla, Meneer: Het Meneer ’n tydjie vir my? Ek wil nie vir Meneer lieg nie. My naam is Fabian, Meneer – Fabian van der Merwe. Ek’s op pad PE toe. Ek’s klaar met hierdie Gauteng. Hierdie plek sien my nie weer nie. My broer in PE gaan vir my ’n job organise, want ek’s mos eintlik ’n boilermaker, Meneer weet. Ek het my pampiere. Of ek het dit gehad, Meneer, voor ’n pel van my se Rottweiler dit opgevreet het. Ek lieg nie, Meneer. Hy bly in ’n garage agter in ’n ou antie in Daspoort se jaart, hierdie pel van my. Ons sit die middag en video’s kyk, ons twee. The next moment kom sy Rottweiler en vat die plastic sak met my pampiere en vreet dit buite op die lawn op: my dieselmac-sertifikaat, my ID, die foto van my ma wat seniel is in ’n ouetehuis op Winburg – als gone. Moer toe. Hy’t even my paspoort opgevreet, daai fokken hond, want ek’t mos op die skepe gewerk. Portugal, Spanje, Egipte – op al daai plekke was ek. Ek’t al dinge gesien, Meneer. Ek lieg nie. In Israel het ek even gesien hoe verdrink ’n ou in die Dooie See. Ek weet hulle sê ’n man kan nie in die Dooie See sink nie, jy dryf net. Maar met hierdie einste paar oë van my het ek gesien hoe verdrink daai ou. In die Dooie See. As ’n ou se luck eers gedraai het, Meneer, dan’t hy gedraai. Ek’t ook ’n kar gehad, en ’n huis, en ’n vrou. Maar toe loop my vrou mos weg met die ou by wie ons ’n Kirby-vacuum cleaner gekoop het. Hulle is nou nog saam, sy en daai Kirby-salesman. En imagine ’n jaar nadat hulle ge-disappear het, het ek nog afbetaal aan daai fokken Kirby. Toe slaat my kar mos bearings, Meneer. En toe word ek siek en die dokters kan nie uitvind wat ek makeer nie. En toe verloor ek my werk by Iscor. En toe
verkoop ek maar die huis, Meneer. Toe begin ek en ’n pel mos ons eie business: Ons maak cracks in karre se ruite reg en sit gas in air-conditioners. Of eintlik het ek net die geld gestoot: R11 000 – die wins wat ek op my huis gemaak het. Maar toe verdwyn my pel mos met die geld en al die equipment. Toe begin ek Sotho-kursusse verkoop. Meneer ken mos daai kursusse met die tapes wat jou leer om “dumelang” en goed te sê. Maar dit het maar gesukkel, Meneer. Ek het net een kursus verkoop – aan ’n swarte, ’n Sotho. Genuine. Hy was een van daai wat in apartheid ’n exile was en toe hy in ’94 terugkom, toe kan hy net Engels praat. Ek lieg nie, Meneer. Toe’t ek pamflette vir ’n CV-t-plek by ’n robot in Proesstraat uitgedeel, maar toe slaat ’n ou my mos een aand voor die Maders Hotel met ’n rugbykous met ’n blik baked beans daarin. Onskuldig, Meneer. Sien Meneer die duik hier langs my kop? Dis waar hy my met daardie blik ge-connect het. Ek was drie maande in Kalafong-hospitaal, want in H.F. was nie plek nie, en in daai drie maande het ek vier keer food-poisoning gekry. Daarom wil ek nou wegkom hier, Meneer. Gauteng sien my nie weer nie. Ek is ’n goner. Fabian van der Merwe wil move. Ek wil Meneer net een favour vra: Het Meneer nie vir my sestig randjies nie? Net sestig. Asseblief, Meneer. Ek lieg nie vir Meneer nie. Ek gaan vir my ’n bottel vodka koop. Genuine. Die Here hoor my.
KAAP TOE
Pine en Engela het ook mos Kaap toe getrek. Ek was onlangs by hulle. Die rustige Kaapse leefstyl, sê Engela, pas hulle net soveel beter as Gauteng se dolle gejaag. Als in die Kaap, sê sy, is net soveel meer ontspanne en laid-back, soveel meer helend en gebalanseerd. Hulle kan nou wel nie die see en Die Berg uit hul nuwe Toskaanse huis in Table View sien nie, maar Engela en ’n binnenshuise argitek het die plek pragtig geëstetifiseer. Nie dat ek juis tyd gehad het om dit te waardeer nie: Pine en Engela is so besig om rustig te wees dat daar nie tyd is om by die huis te sit nie. Ek was skaars daar, toe vra Pine of ek wil gaan gholf speel. Hy is lid in die Paarl, maar sy Investec-pelle kan reël dat ons op Erinvale speel. Of op Arabella waar F.W. ook mos speel. Daar was ander moontlikhede ook: quad biking by Darling, perdry op Spier, wynproe by Spier. Pine het ook onlangs ’n BMW 1200 gekoop en die BMW off road-kursus voltooi. Ons kon ook gaan duik, want hy en Engela het onlangs ’n duikkursus gedoen. Of ons kon natuurlik ’n draai by die Ruperts se nuwe kunsgalery in Stellenbosch gaan maak. En terwyl Pine nog so wik en weeg, toe kom sê Engela hy moet tog onthou om die kaartjies vir Fame by Computicket te gaan optel, want sy is op pad na Vida, haar lewenstylkonsultant by die Wellness Centre. Daarna wil sy by Errol aangaan want sy het niks om te dra na daardie charity ball in die Cape Grace waar Mark Shuttleworth en Kanyi ook glo gaan wees nie. Maar Engela is toe nie na Errol toe nie want Pine het besluit op kreef by Lobsti’s naby Wellington. Ons het sommer met sy nuwe Jeep Cherokee gery. Dis een ding van die Kapenaars, sê hy, hulle is nie so statusbehep as die Gautengers nie. Jy kan by enige plek of okkasie in ’n Jeep opdaag. Die rit Lobsti’s toe het amper twee ure geduur, want saam met ons op die pad
was duisende ander wat ook besig was om laid-back in die Kaap te wees. En toe is Lobsti’s vol. In die Dros in die Paarl was darem plek. En toe, ná die Dros-ribs, sê Pine waarom skiet ons nie gou Fandango’s toe in Stellenbosch nie – hul kaaskoek is manjifiek. Ja, sê Engela, dan kan ons sommer by Carpet World aangaan: sy wil ’n matjie hê waarop sy kan mediteer voordat sy soggens gaan fietsry, want sy oefen mos vir die Argus. Van Carpet World is ons na Pixie’s, en toe na die Houwhoek Hotel bo op Sir Lowry’s waar Pine uit gewoonte ’n brandewyn en Coke bestel het – en dit dadelik weer gekanselleer het, nadat Engela kwaai oor haar Fendi-sonbril na hom gegluur het. Toe moes ons omdraai, sodat Pine en Engela betyds vir Fame kan wees. Pine wou my nog die nuwe pad oor Chapman’s Peak wys, maar daar was nie tyd nie: hulle moes voor Fame die manne van Investec in Pigalle se VIP room ontmoet. Ons is sommer met die N2 terug, teen 160 kilometer per uur verby die lughawe, met Pine skellend agter die stuur, tussen plakkershutte weerskant van die pad deur, terwyl Engela vertel hoe sy met Vida se hulp ontdek het sy het die vermoë om diere se pyn telepaties aan te voel. (Vida kan diere se pyn glo selfs oor die telefoon aanvoel.) Sy is nou soveel meer in aanraking met haar ware self, sê Engela. Sy voel so een met die kosmos en die Kaapse berge. Pine ook. Hy neem glo glads Pilates-klasse. Hulle is nuwe mense, sê hulle.
DIE STERWENDE SWAAN
Ouma is oorlede en jy moet die begrafnis bywoon. Jy neem vier dae verlof by die werk en ry vroegoggend uit die stad weg met ’n geleende Ventertjie agter jou motor. Ouma se goed gaan tussen die familie verdeel word – en die geelhoutkas kom mos na jou toe. Of dis tog wat Ouma gesê het? Die son is al agter die graansilo’s op die rand van die dorp in toe jy voor die ou spitsdakhuis in Markstraat stilhou. Van jy kan onthou, woon Ouma – en Oupa toe hy nog geleef het – hier. Op die stoepmuurtjie staan varings in verfblikke en in die halwe tyre wat aan ’n balk hang, is die pers en pienk en wit van petunias. By die visdam staan die windpompie wat oorle Oupa gemaak het. Hy het dit aan die kerkbasaar geskenk om opgeveil te word – en dit vir R500 self teruggekoop. Dit is vreemd om hier te kom en Ouma kom staan nie op die stoep in haar ACVV-voorskoot wanneer jy die hekkie oopstoot nie. (Die veer wat die hekkie laat toeklap, het gebreek en oorle Oupa het dit met ’n stuk tjoep vervang.) Die voordeur is oop. In die gang staan tant Baba oor die telefoon en praat. “Ja, dis maar beter dat Mammie weg is,” sê sy vir die persoon aan die ander kant. “Die dokter sê die gewas was so groot soos ’n pomelo ... Ja, ’n pomelo.” In Ouma se kamer is tant Pop en tant Gertie besig om kaste uit te pak en agter die huis is ’n geluid. “Prrr-pip-pip- pip.” Jy stap kombuis toe en sien dit: voor die venster staan die borriegeel DKW waarmee Ouma in haar laaste maande ’n skrikbewind in die dorp se strate gevoer het. Neef Flip sit agter die stuurwiel en rev die enjin. “Prrrrr ...” Eenkant staan oom Takkies met ’n skuins gedraaide kop na daardie klank en luister. Jy stoot die sifdeur oop. Snippie, Ouma se skipperke, lê stil met sy kop op sy voorpote op ’n streepsak langs die deur.
“Sy’s nog spotless, hierdie karretjie,” sê oom Takkies nadat hy jou gegroet het. Dan sien jy die kyk in oom Takkies se oë: Begeerte. Tog sê oom Takkies niks van erf nie – nog nie. Dit kom eers ter sprake nadat Oudominee ’n vertroostende gebed kom doen het. Eers daarna sal tant Baba of tant Pop so terloops vra: “Ek wonder waar’s Mammie se testament?” Die testament sal dan gehaal word en dan sal niks meer dieselfde wees nie. Dinge word dikwels te vaag in testamente soos Ouma s’n beskryf. Geen melding word gemaak nie van die geelhoutkas en die 1933-tiekie en die sideboard wat per ossewa van die Kolonie af gekom het. Daar staan net die opbrengs uit die polisse en Sanlam-aandele moet gelykop tussen die kinders verdeel word, asook die res van Ouma se besittings, met dien verstande dat regverdigheid geskied. Maar hoe verdeel mens iemand se besittings regverdig en gelykop? “Ek weet net Mammie het gesê ek kry die staanhorlosie,” sê tant Johanna – en toe maak tant Pop en oom Apie hulle aansprake op die staanhorlosie, totdat tant Gertie na die horlosie stap en almal roep om te kom kyk: Agterop is ’n plakker met haar naam daarop. ’n Maand voor Ouma se dood het sy en haar man, oom Frans, vir Ouma kom kuier en plakkers geplak op alles wat Ouma hulle belowe het. Die volgende dag word selfs Ouma se hoenders regverdig verdeel. Oom Apie slag summier een van syne en kook dit in ’n pot op Ouma se Agastoof want hy wil nie aan dieselfde tafel as tant Gertie en oom Frans eet nie, oor daardie staanhorlosie. Maar voor oom Apie se hoender gaar is, kom oom Takkies en gooi ’n hele sakkie tafelsout in die pot, want oom Takkies glo hy, en nie oom Apie, nie moes die sideboard gekry het. Die oggend voor die begrafnis is daar niemand by die ontbyttafel nie. Lizzie Peta, wat drie en twintig jaar by Ouma gewerk het, skud haar kop en gaan trek haar kerkrok aan en steek haar ZCC-borsspeld aan haar ruim boesem vas in haar kamer agter in die erf. In die gang vertel tant Baba vir nog iemand oor die telefoon Ouma het ’n gewas so groot soos ’n pomelo gehad, en in die sitkamer speel oom Takkies ’n Mantovani-plaat op Ouma se Supersonic-radiogram wat hy ingepalm het.
Toe is daar ’n klop aan die deur. Dit is die man van Avbob in sy swart manel, met sy seremoniële, somber frons tussen die oë. Hy wil weet of enigiemand na Ouma in haar kis wil gaan kyk. Net oom Frans en tant Gertie gaan. Die ander sê almal: “Ons wil Mammie onthou soos ons haar geken het.” Agt minute voor elf die oggend skuif jy saam met die res van die familie in die Moederkerk se voorste bank in. ’n Kombi met Ouma se ouetehuisvriendinne hou buite stil en een na die ander kom die oues op wankelende bene ingestap. Lizzie sit in die heel agterste bank. Haar ZCC-wapentjie weerkaats teen die muur. Oudominee kom met ’n geboë hoof ingestap en lees in ’n moeë stem uit Prediker. In die agterste bank vee Lizzie trane af. Ná die diens, ná die teraardebestelling, ná die koek en tee by die kerksaal, ry jy terug na Ouma se huis en haal die afdruk van Tretchikoff se Sterwende swaan van die sitkamermuur af, want jou aanspraak op die geelhoutkas was nie sterk genoeg nie. Snippie lê steeds met sy kop op sy pote by die agterdeur. Hy eet al vir drie dae nie sy Epol-pille nie. Jy omhels elke familielid toe jy groet, sonder om hulle in die oë te kyk. Jy stop ’n noot in ou Lizzie se hand en sê vir haar dat sy soos ’n ma vir jou is. Dan ry jy. Terwyl die dorp al hoe kleiner in jou truspieëltjie word, vang jou oog die Tretchikoff op die agtersitplek. En vir die eerste keer ooit lyk daardie swaan langs die ballerina op die skildery vir jou regtig hartseer.
EK SKENK BLOED
Die meeste van ons het Humbers gehad. Of Raleighs. Nie dat daardie fietse van ons regtig meer soos Humbers of Raleighs gelyk het nie. Ons het die modderskerms afgehaal. Ons het die stuurstange, saals en trappe vervang, en allerhande bybehore aangesit: spieëltjies, spoedmeters, ligte, lugdrade, gereedskapsakkies, carriers. Barkies het sy Humber een middag sommer silwer gespuitverf – dieselfde kleur as wat die Sky Cycle was waarmee die Amerikaanse waaghals Evel Knievel daardie jare oor afgronde en busse gespring het. Ou Evel was een van ons helde. Ons het ons dikwels verbeel ons is hy, dan jaag ons oor Louwtjie Erasmus-hulle se grasperk tot in hulle swembad, gat oor kop in die water, fietse en al. Ons het nie besef ’n Humber is eintlik ontwerp vir middeljarige posmanne en afgematte spoorwegwerkers nie. Ons het deur dongas gejaag, by sypaadjies af, oor net sulke klippers – veral as oom Herbst, die dorp se tiran van ’n spietkop, agter ons aan was. Seuns op hulle fietse was in daardie jare die fokus van intense wetstoeing, so half asof reg en orde op die dorp in duie sou stort as jy nie oom Herbst se Groot Vyf-fietsreëls nagekom het nie. “Waar’s jou liksens, mannetjie?” Dit was oom Herbst se eerste vraag want daardie tyd moes fietse – en honde – nog lisensies hê, so ’n blink plaatjie wat jy onder jou saal of teen die vooras vasgebout het. “En waar’s jou klokkie?” Dit was oom Herbst se volgende vraag. Jy moes ook ’n wit weerkaatser voor en ’n rooie agter hê. Vyfdens, en volgens oom Herbst kort duskant ’n halsmisdaad: jy mag niemand ge-lift het nie. En as oom Herbst jou nie kon vastrek oor dié vyf oortredings nie, het hy jou sommer beboet as jy by ’n straat afgedraai het sonder om ’n handsein te gee.
Ek het ’n teorie: Ek glo baie van ons – veral ons wat in die 1970’s kind was – koop of begeer deesdae 4x4’s omdat ons graag weer elke sloot en klip en draai van die oop pad wil ervaar soos destyds met ons Humbers en ons Raleighs. Daardie ou fietse, meer as vandag s’n, was ’n soort verlenging van jou sintuie waarmee jy die aarde kon verken. Met jou Humber en jou Raleigh kon jy op plekke kom wat jy te voet nooit sou kon bereik nie. Ons het maklik op ’n Saterdagoggend die 11 kilometer na Die Oog-vakansieoord getrap, waar ons onder die bome gelê en die meisies op ’n veilige afstand dopgehou het. Waar jy ’n pap wiel gekry het, het jy dit sommer langs die pad reggemaak met die patch en solution wat in die sakkie agter aan jou saal was. Dit was ook mos dié tyd dat die Humbers en Raleighs se heerskappy eensklaps deur ’n nuwe model bedreig is: Die Chopper. O, hoe het ons nie Choppers begeer nie! ’n Chopper het ’n rathefboom soos ’n kar s’n hier voor op die pyp gehad, ’n sagte saal met so ’n smal rugleuning, sulke hoë bokhoring-handles en so ’n klein voorwieletjie. Maar van Choppers het ons net gedroom. In die vakansie of op Saterdae het ons gewoonlik vroeg in die pad geval met ons fietse, ek en Barkies en Louwtjie en Skippie – die Bosveld in. Ek weet nie waar het hy dit gekry nie, maar Skippie het ’n plakker van die SA Bloedoortappingsdiens op die sakkie agter aan sy saal gehad: EK SKENK BLOED. Ons moes altyd in daardie plakker vaskyk. Want Skippie kon laat waai. Ons is gewoonlik eers na die dorpsdam toe, so 12 kilometer buite die dorp. Daar was baie bospaadjies en modder en slote en miershope waar ’n man jou Evel Knievel-tricks kon doen. Soms het ons ook met die fietse inry toe gegaan. En dan, ná die fliek, het ons maar weer die 5 kilometer terug dorp toe agter die stoet karre aan getrap. Daardie aande sal ek altyd onthou: Die maan se silwer skynsel op die telefoondrade, die geur van maroelas en moepels in die donker; en hoe nader ons
aan die bruggie oor die spruit gekom het, hoe vinniger het ons getrap, want die spook van ’n Engelse soldaat het glo soms daar gestaan en ryloop. Naby die gholfbaan het Skippie gewoonlik gesê: “Oukei, ek dice julle tot by Taki se kafee.” Dan het ons die dorp ingejaag, verby die klipkerk, oor twee, drie, vier stopstrate sonder om stil te hou. Oorkant oom Herbst se huis in 4de Straat het ons dan altyd geskreeu: “Tjips, tjips, oom Herbst! Hier kom die Hell’s Angels!” Dit was ons eie grap, want iemand by die skool het vertel – glo op goeie gesag – dat die Hell’s Angels oom Herbst eenkeer lank gelede aan sy voete aan ’n boom opgehang het omdat hy een van hulle beboet het toe hulle deur die dorp gery het.
En toe kry Louwtjie wraggies ’n pers Chopper vir sy verjaardag. Ons was in Taki se kafee, ek en Skippie, besig om pinball te speel toe hy met die Chopper daar aankom, lekker la-di-da met sy drie ratte. Ek sal nie sê ons was afgunstig op Louwtjie nie. Kinders reageer meer naïef in sulke gevalle. “Nou maar oukei,” het Barkies gesê. “Kom’s kyk wat kan daai Chopper doen. Ons dice jou tot by julle huis.” Dit was ’n warm middag en Louwtjie het ’n voorsprong gehad, want ek en Barkies moes nog op ons Humbers klim. Maar dit was gou duidelik: ’n Chopper was nog minder as ’n Humber vir latte soos ons ontwerp. Dit was eerder ’n fiets waarmee mens smiddae rustig klavierlesse toe ry. By oom Dafel se apteek, toe is ons kort agter Louwtjie. Hy hang krom oor daardie bokhorings, met sy voete pompend onder hom, maar regoor Volkskas, toe begin daardie voorwieletjie heen en weer swaai. Louwtjie het ’n speed wobble begin kry, en ons was nog nie eens op vol spoed nie. Ons is by hom verby en by die polisiestasie was hy al amper ’n blok agter ons. Hy het iets geskree, maar ons kon nie hoor wat nie.
Ek het so tien tree agter Skippie gebly, af in 5de Straat. Maar toe ons by Louwtjie-hulle se hek inskuif, toe is ek op sy stert. Skippie het reguit oor die grasperk na die swembad se vlak kant toe gemik. Ons gaan sommer weer reguit die water in Evel-Knievel. Dit kon ek sien. Teen die opdraandetjie na die swembad toe het ek langs Skippie ingeskuif, oor die sementblad rondom die swembad. Toe, terselfdertyd, sien ons dit: Die swembad is flippen leeg. Louwtjie se pa wou dit laat verf of iets. Ons het probeer rem. Te laat. Ons is saam oor daardie swembad se rand, Humbers en al. Ek het half op my rug te lande gekom, met die geluid van spieëltjies en wiele en vurke wat rondom my breek, en toe ek weer my oë oopmaak, toe lê Skippie se Raleigh hier voor my, en ek kyk weer in daardie plakker vas, daardie een wat sê: EK SKENK BLOED.
SKIPPIE SE PA
Skippie en sy ma het op ’n dag in so ’n ou Datsun-bakkie vol goed op ons dorp aangekom. Hulle het in die groen asbeshuis met die afkopdwergie in die tuin in 2de Straat ingetrek en die volgende dag, nadat Skippie en sy ma eers lank by ou Mossie, die skoolhoof, in sy kantoor was, het ou Mossie hom na ons standerd 4-klas toe gebring. “Ouens, ek het vir julle ’n nuwe maat gebring. Hy kom van Germiston af. Julle moet hom tuis laat voel hier by ons, hoor.” Maar Skippie het sommer homself tuisgemaak. Daardie middag toe ek en Stoffel met ons Humbers in 2de Straat af trap op pad na Taki se kafee, was daar opeens ’n stem agter ons: “Howzit, ek sê. Waar ga julle ouks heen?” Dit was Skippie. Op so ’n gaar Raleigh-dikwiel sonder modderskerms. Ons het hom nie geantwoord nie. Ons het al hoe vinniger begin ry, verby Taki se kafee, verby die kerk en die polisiekantoor. Maar Skippie het bygebly op daardie simpel dikwiel van hom. Ons was later buite die dorp, met die hobbelrige grondpad op pad na die asgate. Daar het Skippie by my en Stoffel verbygekom, kop omlaag, sy kaal voete pompend onder hom terwyl die klippertjies onder daardie dikwiel se bande uitskiet. Ons kon Skippie nie meer ignoreer nie. Skippie was ’n tier op daardie dikwiel van hom: Hy het oor miershope ge-ramp, sulke wye, onnavolgbare broadies gekap, en jy kon maar vergeet om hom in ’n dice ore aan te sit, ou matta. Een middag het Skippie met sy boude op die handles gaan sit en daardie dikwiel agterstevoor in 2de Straat af gery, verby oom Sam Cooper se winkel. ’n Klomp werkers in blou oorpakke wat buite die poskantoor in ’n ry gestaan het met hulle posspaarbankboekies het selfs vir hom hande geklap. Hy het by sy pa geleer om ’n fiets só te ry, het Skippie gesê. Hy het graag met sy pa gespog. Hoe sy pa soos die akteur Charles Bronson lyk. Hoe sy pa ’n swart
belt in karate het, agterstevoor op fietse kan ry en al een keer die bokser Kokkie Olivier in ’n geveg gewen het. Skippie het ons ook vertel sy pa kan sy ore beweeg deur hard op sy tande te byt, iets wat ons herhaaldelik self probeer het, onsuksesvol. As ons vir Skippie gevra het wanneer kom sy pa by hulle woon, het hy altyd ’n storie gehad. Nee, sy pa is nog op Germiston, hy verkoop nou hulle huis, of sy pa is in Mosambiek, besig met ’n bouprojek. Of sy pa gaan nou eers met ’n seilboot Australië toe vaar – al sulke grootbekstories. Ons kon Skippie nie afskud nie. Maak nie saak watter ompad ons verby hul huis in 2de Straat gery het nie, net ’n rukkie, dan was sy stem agter ons: “Howzit, ek sê. Waar gaan julle ouks heen?” Dan het hy saam met ons pinball in Taki se kafee gaan speel, of babers in die dorpsdam gaan vang, of sommer net saam met ons met ons fietse rondge-cruise. En altyd het Skippie die een of ander storie gehad oor sy pa wat dinge beter as enigiemand anders kon doen. Later het ons Skippie nie meer probeer vermy nie. Later het ons hom met ’n fluit geroep wanneer ons verby hulle huis gery het. As daar ’n Trinity- of ’n Bruce Lee-fliek gewys het, het hy saam met ons met die fietse inry toe gegaan. Bruce Lee, het Skippie ons vertel, kan ’n vlieg aan sy vlerke vang. Sy pa ook. Skippie se pa het wel op die ou end op die dorp opgedaag. Was dit daardie jaar net voor Kersfees? Ek kan nie onthou nie. Dit was ’n Vrydagmiddag, as ek reg onthou, en ek en Stoffel was weer op pad na Taki toe. By Skippie-hulle se huis het ons gefluit en na Skippie geroep, maar Skippie was nêrens te sien nie. By hulle voordeur het wel ’n man uitgekom, en ja, hy het nogal ’n bietjie na Charles Bronson gelyk met daardie breë hangsnor van hom. Ons het vir hom gewaai maar hy het nie teruggewaai nie. Hy het net daar in die rolstoel gesit en stil na ons gekyk.
PRONKIE
Ek wonder waar kan mens Pronkie in die hande kry. Pronkie se pa was ’n padskraperdrywer en hulle het in ’n istrasiekaravaan in die padkamp naby die rioolplaas in ons dorp se buitewyke gewoon. Soms het ek en Stoffel met ons fietse daar verby gery maar ons het nooit ingegaan nie want ons het nie eintlik met Pronkie gespeel nie. Niemand het regtig met Pronkie gespeel nie. Pronkie het in sy neus gekrap en al vir die tweede jaar in standerd 2 gesit, sy boeke was nie met bruinpapier oorgetrek nie, en eenkeer in die wiskundeklas het hy in sy broek gebollie. Hulle karavaan het langs ’n prefab-kantoortjie by die padkamp se hek op vier stapels stene gestaan. Die padskraper, ’n Gallion T600, het voor ’n sinkstoor gestaan. In die verste hoek van die kamp was ’n ronde kakietent en voor die tent ’n swartgebrande konka. Die twee swart werkers wat altyd agter die skraper – die “grader”, soos ons dit genoem het – aangestap en die klippe met grawe uit die pad gegooi het, het in daardie tent gewoon. Saterdagaande wanneer ons teruggekom het van die inry af het die twee werkers gewoonlik by die vuurtjie wat hulle in die konka gemaak het, gesit, met lang, donker skaduwees wat rondom hulle dans. Pronkie se pa en die twee werkers het gewoonlik Maandagoggende die distrik met die grader ingery. Hulle het ’n ander karavaan, ook so ’n witte, agter die grader gesleep en gewoonlik was daar ’n draadhok met ’n paar hoenders in agter op die grader vasgemaak. Die hoenders was hulle vleis vir die week, want hulle het nie saans huis toe gekom nie. Hulle het sommer êrens langs die pad wat hulle besig was om te skraap kamp gemaak. Eers Vrydagmiddae het Pronkie se pahulle weer teruggekom dorp toe. Pronkie se pa, ’n seningrige man met ’n bruingebrande gesig, se sat Opel Manta het elke Vrydagaand voor oom Uys se hotel gestaan – tot laat. Saterdagoggende, hier elfuur se kant, was die Manta maar weer daar.
Soms het Pronkie in die Manta voor die hotel gesit terwyl sy pa daar binne was. Eenkeer het ek en Stoffel met hom gaan praat: “Wat maak jy, hè, Pronkie? Wag jy vir jou pa?” “Ek luister draadloos.” Hy het die Rally-radio in die Manta harder gedraai. Dit was Sportparade op Radio Suid-Afrika en The Bats se stemme het uit die enkele luidspreker in die dashboard gesuis: “Vat hom, Dawie. Vat hom laag ...” Een Saterdagmiddag laat toe Pronkie se pa uit die kroeg kom, was die Manta se battery pap van Pronkie se radioluistery. Hy het Pronkie aan sy arm uit die Manta getrek en hom so geslaan dat oom Riempies, die kroegman, moes ingryp. Pronkie het sulke wit kolle op sy bene gehad en op sy een arm was ’n omloop. Dis omdat hy nooit groente kry om te eet nie, het die kinders gesê. Ons het van die groente-etery in die gesondheidsleerklas geleer. Pronkie het ook nie gereeld gebad nie, want soms het ons suutjies in die rye by die skool ’n streep met ’n pen agter op sy been of arm getrek. Die volgende dag was die penstreep nog daar, presies waar ons dit die vorige dag getrek het, dalk net effe dowwer. Dan het ons gelag en na die streep beduie en allerhande lelike goed vir Pronkie gesê. Maar nooit het ons vir hom gesê van die streep nie, anders sou ons hom mos nie weer kon uitvang nie. Ons het Pronkie baie gespot. Ons het ... Of gaan ek nou vaag met die waarheid om? Dit was nie ons wat die penstrepe agter op Pronkie se been en arm getrek het nie. Dit was ek. Ek het die plan bedink en ek het elke keer die streep getrek. Waar, wonder ek, kan mens Pronkie opspoor?
INVENTARIS
Dis ’n plakkershut, ’n makuku in Atteridgeville, Extension 4, gemaak van sinkplate – agtien sinkplate, om presies te wees. En daar is net een deur. Buk jy by daardie deur in, is dit opeens skemer want daar is nie ’n venster nie. Op die tafel met die Formica-blad in die middel van die hut flikker ’n kers in ’n blou blikblaker. Langs die kers sit ’n gespikkelde posduif stil uit ’n budjiehok na jou en kyk. Die vloer is bedek met ’n uitgerafelde bont Van Dyck-mat, groen linoleum en twee streepsakke, en in die middel van die hut stut ’n bloekomlat die dak. Daar is stoele ook – drie stoele. Die een se poot is effens gebuig, die ander een se rugleuning makeer, en oor die derde een hang een van daardie kleurvolle handdoeke met die palmbome op wat jy in die China shops koop. In die hoek, links van die tafel en die stoele, staan ’n rak met drie vlakke. Op die boonste vlak is ’n pienk porseleinhond, ’n tandeborsel en ’n buisie tandepasta, ’n blikkie swart Nugget-skoenpolitoer en ’n leë Cape Velvet-bottel met ’n hoenderveer in. Op die middelste vlak is ’n wit enamel-skotteltjie, ’n vurk, ’n koekie groen Lifebuoy-seep, ’n blikbeker, ’n blikbord, ’n oorryp avokadopeer, ’n pakkie Huletts-suiker, ’n sakkie Iwiza-mieliemeel, ’n bottel Spar-kookolie No Name Brand, en ’n wekker wat op tien oor twaalf gaan staan het. ’n Primusstofie met ’n swartgebrande pot daarop staan heel onder op die rak. Langs die stofie lê ’n dosie vuurhoutjies. Die dosie is halfpad oop en tel jy, sal jy sien daar is elf vuurhoutjies oor. Regs van die rak is ’n 2005-kalender van die Simunye Funeral Services met kleefband teen die sinkmuur vasgeplak. En langs die almanak staan in groot groen letters teen die muur geverf: THE HOUSE OF EXILE. In die hoek, regs van die tafel en die stoele, is ’n bed met ’n hol klapperhaarmatras agter ’n kantgordyn. Die bed se pote staan op verfblikke en is oorgetrek met ’n grys kombers. Onder die bed is ’n koffer, en langs die koffer
hou ’n paar grys slip-on-skoene wag oor twee dennebolle. Teen die muur bokant die bed hang ’n foto van die Kaizer Chiefs-sokkerspan wat in 1998 die Premier-liga gewen het. Onder die foto is ’n kiekie van ’n man wat in ’n karatehouding voor ’n reuse-aalwyn poseer. By die bed se voetenent leun ’n hangkas gevaarlik ver na regs oor want twee van die pote is af. In die kas is ’n blou oorpakbaadjie, vier hemde, drie langbroeke, drie onderbroeke, twee pare kouse en ’n geel trui met ’n gat in die linkermou. Op die vloer langs die kas staan ’n leë blikkie Ego-reukweerder in die geselskap van ’n ingeduikte Nissan Skyline-wieldop. By die bed se koppenent is ’n tafeltjie en daarop is ’n pienk kam met dik tande, ’n waslap, ’n Sotho Bybel, ’n ID-boekie in ’n plastiekomslag van Kaizer Chiefs, ’n weggooi-Bic-skeermes, ’n stuk van ’n gebreekte spieël, en nog ’n kiekie – een van ’n ouerige vrou met ’n wit kopdoek en daar is berge in die agtergrond wat soos Lesotho s’n lyk. In die hut se ander hoek leun ’n sinkbad en ’n grasbesem teen die muur, langs ’n kassie waarop ’n swart-en-wit TV-stelletjie staan. Die TV-stelletjie is verbind met ’n motorbattery wat by ’n rubberplant in ’n plastiekpot op die vloer staan. In die kassie is ’n leë koekblik met ’n olifantprentjie op die deksel, asook twee Departement van Gesondheid-kondome in silwer pakkies, ’n kasset van Steve Kekana, en ’n skilpaddop. Dit – saam met die drie kapokkies wat buite op die werf rondskrop – is min of meer die somtotaal van Jerry Dibetso, die man wat soms in my tuin werk, se aardse besittings.
FRED SIEN ’N PLAN
Fred verkoop nou sy huis. Ek het toevallig op hom afgekom die middag toe ek tussen die plotte naby die stad rond gesoek het na ’n man wat Jack Russell-hondjies in die koerant adverteer. Later het ek hopeloos verdwaal en by die eerste die beste hek ingeswaai om pad te vra. Toe beland ek op Fred se werf: ’n monument vir verlore drome. Dis geroeste enjins en stukkende wasmasjiene net waar jy kyk, en agter die huis, so ’n platterige affêre, slaan twee kêrels een van die agterste vertrekke se mure plat terwyl drie ander die stene skoonkap en op ’n Toyota HiAce laai. Eenkant sit ’n man op ’n omgekeerde bierkrat, met ’n Castle-quart by sy voete. Hy lyk so vyf en veertig of dalk net ’n vernielde ses en dertig, in ’n blou oorpakbaadjie, met ’n pakkie Royals in die bosak, ’n rooi neus en ’n rasper van ’n handdruk. Fred. Is hy besig met ’n bouery? vra ek. Nee, sê Fred. Hy verkoop huis. Maar Fred verkoop op ’n anderster manier huis. Op ’n dag het ’n man van ’n nabygeleë township kom vra of hy nie maar die vervalle waenhuis wat doer onder die seringboom gestaan het, kan koop nie. Hy sal dit afbreek en wegry, want stene, vensterrame en sinkplate is onbekostigbaar en hy wil vir hom ’n plek in die township bou. Fred het gewik en geweeg – en ingestem: R250. Dis handige geld vir ’n man wat rook en drink en nie ’n inkomste het nie. Sulke nuus versprei gou in hierdie land, want nie honderd jaar nie, toe kom daar nog township-mense op Fred se plot aan: Hulle hoor die meneer het goedkoop stene en sinkplate en kosyne en vensterrame.
Dit het Fred vir ’n rukkie aan die wroeg gehad. Hy het die huis en die plot by sy oorle ma geërf. Wat sou sy daarvan sê as hy maar die agterstoep en die waskamer ook laat gaan? Oorle Ma het dit skynbaar goedgekeur, want toe laat gaan Fred maar die agterstoep en die waskamer ook. En later die twee slaapkamers. En nou die kombuis. Soms moet ’n mens ’n plan sien, sê Fred. Stel ek belang in enigiets hier? wil hy weet. Ek moet net sê wat, ons kan praat oor ’n prys. Ek stap nader. Die kombuis wat die mans afbreek, staan al kniehoogte agter op die HiAce gestapel. Nog net die sitkamer, hoofslaapkamer, badkamer en toilet is oor. In die sitkamer, agter ’n Gomma-Gomma-bank, hang ’n prent van ’n Hawaise strand met palmbome en ’n foto van ’n gryskopvrou met ’n knypraambrilletjie. Dis oorle Ma, beduie Fred. Soms, sê hy ’n rukkie later, voel dit asof oorle Ma hom dophou. Teen ’n ander muur hang ’n gebed wat seker in die kombuis gehang het voor Fred die kombuis verkoop het: Seën my kombuis, o, Vader, trek ons gesin steeds nader. Berei ons harte vir daardie fees wanneer my Heiland Koning sal wees. “Hoeveel?” vra ek en wys na die Kombuisgebed. “R20,” sê Fred. In die hoofslaapkamer staan ’n pragtige embuia-kamerstel: ’n spieëlkas, ’n hangkas, ’n bed en ’n kopstuk. “Hoeveel?” vra ek. “R500,” sê Fred. Ek koop niks nie. Fred beduie my die pad na die regte plot, ons groet en ek ry soontoe. So ’n halfuur later, op pad terug huis toe, ry ek weer verby Fred se plot. ’n Entjie daarvandaan kruie die HiAce in ’n blou dieselwolk in die rigting van die township, met Fred se kombuis agterop, vensterrame en sinkplate en al. Die
mans het ook die Gomma-Gomma-bank en twee stoele by Fred gekoop. En op die bank staan daardie prent van die Hawaise strand, en op een van die stoele kyk oorle Ma oor haar knypbrilletjie terug plot toe.
SKIPSKOP
Oom Jurie Greeff boor sy halfgerookte Chesterfield in die asbakkie voor hom dood toe die meisietjie op die verhogie in die hoek van die kroeg David Kramer se “Skipskop” begin sing. “Het jy geweet Skipskop is ’n plek?” sê hy en loer oor sy rooi neus na my. Ek weet dit. Maar waar Skipskop is, weet ek nie. Dit moet by die see wees, en iets verdrietigs het daar gebeur. Dit vertel die liedjie jou. “Was Oom al daar?” vra ek. Oom Jurie leun op sy elmboë en trek ’n onsigbare kring met sy glas op die toonbank. “Was ek al daar?” Hy rig weer daardie voos rooi neus op my. “Ek’t baie vis daar uitgetrek, ou broer.” Oom Jurie is ’n gewese visserman. Hy het lank op die skuite getrôl soos hulle dit hier noem. Toe ek vroeër hier by Danie’s Pub op Baardskeerdersbos, so 20 kilometer van Gansbaai af, instap, het hy reeds in sy eie rookwolk hier gesit. Nou luister hy stil hoe sing Danie Groenewald, die eienaar van die plek, se dogtertjie “Skipskop” met behulp van backtracks wat uit ’n luidspreker groter as sy kom. “Pak op, pak op. Sit jou goedjies op jou kop. Mêre gaan ons weg, vê-hêr van hier weg ...” Eintlik is ek so half en half op pad Kaap toe, maar ek het ompad gery: deur die Klein-Karoo, verby Swellendam en Riviersonderend. Miskien mik ek hiervandaan sommer weer Noord, Caledon se koers, ek weet nie. Ek glo as jy lank genoeg dwaal, sal jy op die ou end uitkom waar jy moet wees. Ek glo ook aan die wederopstanding van stories. “Maar ou P.W. het almal mos daar geverjae,” sê oom Jurie toe die kind klaar gesing het. Toe vertel hy my kortliks Skipskop se storie. Dat dit ’n vissersdorpie naby Waenhuiskrans hier naby was waar bruin en wit vir jarre saam ’n bestaan uit die see gemaak het, tot Krygkor in die vroeë 1980’s die grond geoormerk het
as die ideale plek om missiele te toets en as die plek waarvandaan Afrika se eerste satelliet gelanseer kan word. Toe moes die Skipskop-mense maar trek. Teen hulle wil. Oom Jurie het nie self op Skipskop gewoon nie. Hy het net daar visgevang. “Oe, ou broer,” sê hy, “daar was baie galjoen.” Daar was glo ook ’n ou met die bynaam Piet Sole, ’n tawwe kalant. Eenkeer het hy glo nie aas gehad nie, toe vat hy ’n mes en sny ’n eelt van sy hakskeen af, haak hy dit aan sy hoek en vang ’n makriel. “Gaan praat met ou Hennie Skipskop op Bredasdorp,” sê oom Jurie en kom orent. “Hy sal jou als vertel.” Hy groet my met ’n skurwe hand en verdwyn die middag in, asof hy my net gou van Skipskop wou kom vertel. Die volgende oggend ry ek terug op dieselfde pad as waarmee ek gekom het, maar op Napier draai ek weg Bredasdorp toe. Hoekom wil mens altyd teruggaan op die spoor van dinge wat verby is? Wie is dit wat gesê het herbesoeke is selde ’n aflegging. Dikwels is dit eerder ’n bevestiging. Net buite Napier staan ’n vrou langs die pad, duim in die lug. Ek hou by haar stil. Wanneer ek so dwaal, laai ek gereeld mense op. Haar naam is Julia September. Sy is ook op pad Bredasdorp toe en praat aanmekaar. Oor Lottonommers. Oor haar lui man. Oor haar oupa wat glo eenkeer ’n pofadder doodgemaak het deur hom te vang, sy bek oop te rek en pruimtwak daarin te spoeg. En, ja, sy was eenkeer op Skipskop, in ’79. Sy het by ’n Hendrik Granfield-hulle daar gekuier. Sy het selfs ’n kiekie van die okkasie. “Hou net hier voor by Askraal stil,” sê sy, “ek sal dit gou gaan kry.” Askraal se witgekalkte huisies staan teen die pad. Buite sit drie mans op klippe. Julia verdwyn by die deur in. En bly weg. Lank. Later skreeu sy van binne af: “Sê vir hom die kiekie is op Pearly Beach! Ek gat nou mar eers hier bly!” Ek klim nie uit om na haar of die kiekie te gaan soek nie. Jy moet die langpad vertrou: Soms gebeur dinge nie, sodat ander dinge kan gebeur.
Hennie Skipskop, die man van wie oom Jurie op Baardskeerdersbos my vertel het, se van is Groenewald. Hy het die kontantwinkel op Skipskop gehad. Oom Hennie is nie by sy huis op Bredasdorp nie, maar die man by die kafee oorkant die straat het sy selfoonnommer. Ek bel. Oom Hennie raak dadelik stiller toe ek hom oor Skipskop vra. “Ek wil nie daaroor praat nie,” sê hy. “Ek was van die begin af teen die hele ding. Wat het die Broederbond my nou weer daai tyd genoem?” Stilte. “Hulle het gesê ek is kleingeestig en kortsigtig. Hulle het hier kom maak en breek nes hulle wil.” Nog ’n stilte. “Wat sal dit tog help om nou daaroor te praat?”
Het Julia September die waarheid gepraat toe sy gesê het sy was by ’n Hendrik Granfield op Skipskop? wonder ek. En as sy het, waar sal mens hom in die hande kry? Ek ry Bredasdorp se eenkantwoonbuurt in. Mense loer wantrouig deur skrefies in gordyne. Ander skud die kop: Nee, jammer, hulle ken nie ’n Hendrik Granfield nie. Uiteindelik, op ’n straathoek, is daar ’n man wat ’n Hendrik Granfield ken. Johnny Cloete. “Ou Hennerik is op Kassiesbaai.” Hy beduie see se kant toe. “Hy bly so op die bultjietjie.” Kassiesbaai is so 25 kilometer van Bredasdorp af. Dis die gedeelte van Waenhuiskrans – of Arniston, soos dit ook genoem word – waar die vissermense woon. Ja, ja, hulle woon in daardie huisies wat op skilderye in derduisende sitkamers in hierdie land pryk. In die agtergrond is gewoonlik die see, met die huisie op die voorgrond, ’n gesellige rokie kronkel uit die skoorsteen, voor die deur slaap ’n hond, en eenkant skrop ’n paar hoendertjies. So vredig. Maar daardie skilderye jok. Hier loop hoendertjies tussen Kassiesbaai se huisies, ja. Maar hierdie hoendertjies gaan gou op die tafel beland, want die mense is arm hier. Die vis loop nie meer soos van ouds nie. En waarom verskyn die wrakke van Fiat 128’s en Mazda Capellas nooit op
daardie skilderye nie? Hier langs die huisies sien jy dit wel. En hier, nadat ek by baie van daardie huisies geklop het, sit oom Hendrik Granfield op ’n plastiekstoel, met ’n Spur-hemp aan wat iemand vir hom present gegee het. “Ek’s ’n Skipskopper, ja, Meneer,” bevestig hy. “Tot in my gebeentes in is ek een.” Hy roep die kombuis in na sy vrou, tant Maria: “Kan jy vir ons koffie bring, Ma!” Ons gaan sit by die tafel in die eetkamer met die Cobra-blink vloere. “Meneer ken mos daai songetjie wat ou David Kramer gedig het,” sê hy. “Dis nes David daar sê. Net so het dit gebeur.” Skipskop, Skipskop, wanneer hou die dinge op? Swaarkry lê nog voor, die blou berge oor. Oom Hendrik is in 1937 op Skipskop gebore. Skipskop was eers deel van die plaas Martha 2. Maar in 1910 het dit ’n afsonderlike plek geword. Die naam is afgelei van Skip se Kop. Hierdie stuk kus is besaai met wrakke en een daarvan – dalk die Willem de Zwijger – se boeg het vir jare bokant die water uitgesteek. “Ek was so sestien, sewentien toe ek die eerste keer saam met my pa op die see gegaan het,” vertel oom Hendrik. “Die see was maar my skool.” Hier deur die dyne loop onse spore. Hier op die beach, hier langs die see is ek gedoop. Tant Maria kom sit twee bekers koffie voor ons op die tafel neer en gaan krap in ’n laai. Sy bring ’n hand vol foto’s te voorskyn – Skipskop-kiekies wat nog met een van daardie Instamatic-kameratjies geneem is: Oom Hendrik met ’n tamaai galjoen. Oom Hendrik met ’n kabeljou. ’n Jong oom Hendrik en tant Maria op Skipskop se strand. Daar was jollie tye op Skipskop. Vis was daar baie – en musikante: Oom Attie van Brakel met sy mandolien, tant Mynie Schoonwinkel met haar trekklavier, en ou Piet Katryntjie wat sy kitaar met behulp van ’n glasbotteltjie soos ’n Hawaise kitaar kon laat “tjoe-whie-hieng”.
Maar toe, in ’84, gaan die jolliegeit weg. “Krygkor het gekom met hul stories van die skietbaan.” Oom Hendrik skuif die kiekies heen en weer op die tafel, asof dit ’n legkaart is waarvan die stukke nie wil pas nie. “Toe moet elkeen maar sy eie pad kies.” Sy ma was al drie en tagtig jaar oud. Sy twee broers, Adoons en Thys, het ’n bakkie gehuur om haar en haar goed weg te neem. Seblief, Meneer, ag, sê tog weer, is dit die pad wat ons môre moet vat? “Op ’n dag toe kry ek ook maar my koers van Skipskop af,” sê oom Hendrik. “Ek was toe mos nog jongerig. Ek het net my goed in ’n soetkys gepak, toe vat ek my baaisiekel, maar ek het nie my baaisiekel gery nie. Ek het hom al met die strand af gestoot tot hier op Waenhuiskrans.” ’n Stukkie lê hier en ’n stukkie lê daar. Die stukkies van my lewe, hulle lê baie deurmekaar. Oom Hendrik begin die kiekies in ’n netjiese hopie voor hom pak. Tant Maria kom staan by hom. “As hulle môre sê ons kan teruggaan,” sê sy, “dan gaan ons.” “Ek wil kyk of ek nie kan gaan kyk nie,” sê ek. Tant Maria verdwyn weer in een van die agterkamers. ’n Rukkie later is sy terug met ’n Kodak Instamatic-kameratjie. “Kan jy nie vir ons ’n kiekie daar vat nie?”
Dis ’n mooi, oop middag en ek is op pad Skipskop toe. Of liewer, ek wil Skipskop toe probeer gaan, want jy kan nie deesdae sommer meer soontoe ry nie. Die gebied is met ’n geëlektrifiseerde heining toegespan. Jy moet spesiale toestemming kry by die Overberg-toetsbaan (OTB), die filiaal van Krygkor wat die gebied beheer. Voor in die pad is ’n veiligheidsbeheerpunt: hoë traliehekke en ’n kantoor langsaan met koeëlvaste vensters. Ek parkeer eenkant en stap nader. In die kantoor staan twee mans na TV-monitors en kyk. Een kom toonbank toe.
“Skipskop,” sê hy, en herhaal dit drie of vier keer, asof hy hom iets wil herinner wat hy lankal vergeet het. Hy bel ’n nommer en gee die telefoon vir my. ’n Man antwoord. Dis die OTB se skakelhoof. Hy sal eers by Hoofkantoor in Pretoria toestemming moet kry vir my. Dit kan drie, vier dae duur. Ek stap terug die helder middag in. Laag oor die melkbosse swiep ’n vegvliegtuig waarvan ek die naam nie ken nie. In die ou dae het hier ’n grondpaadjie geloop. Noudat niemand eintlik meer op Skipskop kom nie, is hier ’n teerpad wat OTB se mense gebruik om hul missieldinge te doen. In die verte staan die een of ander toestel in die veld. Dit is die lanseerplatform waarvandaan Suid-Afrika se eerste satelliet gelanseer sou word. Deesdae word die baan baie gebruik deur oorsese wapenontwikkelaars, onder meer uit Duitsland en Brittanje. By die grootpad huiwer ek ’n paar oomblikke. Draai ek regs, gaan ek terug Bredasdorp toe. Draai ek links, gaan ek Waenhuiskrans en Kassiesbaai toe. Wanneer hou die dinge op?
PELGRIMSTOG
Flip het toe na homself in die Apartheidsmuseum gaan kyk. Hy het by Jakes, een van sy army-pelle, gehoor hulle is op ’n foto in die museum, en eers het hy gedink, boggher dit, hy gaan nie kyk nie. Maar Sondagoggend, toe sê hy vir sy vrou Elsa hy gaan gholf speel op Cullinan, toe ry hy Johannesburg toe. Alleen. Hy weet nie waarom nie, sê Flip, maar hy wou nie hê Elsa en die kinders moet weet nie. Jy betaal R40 toegangsgeld, sê hy, dan kan jy ’n gids ook kry. Maar hy het nie een gevat nie want toe hy by daardie voordeur instap, toe voel dit asof hy terug is in die Sixties en die Seventies in Pretoria. In een saal kan jy na toesprake van doktor Verwoerd luister. Jy kan ook kyk hoe het Nelson Mandela gelyk toe hy jonk was. Daar is ook ’n Casspir en oral is videoskerms waarop dinge gewys word wat hy wou vergeet het: polisiehonde wat mense jaag, skares wat voertuie aan die brand steek, soldate met R1’s en knuppels. Hy het nogal ’n ruk gesoek voor hy homself in die museum gekry het, sê Flip, want die foto waarop hy en Jakes is, hang in een van die agterste sale. Dis ’n hengske groot foto, sê hy, en daar is ander mense ook op – en twee polisiehonde. Die foto is in 1976 geneem. Om presies te wees: op 17 Junie 1976, die dag nadat die Soweto-opstande uitgebreek het. Flip was toe in die army, besig met ’n driemaandekamp by Verdedigingshoofkwartier in Pretoria. Hy was eintlik in infanterie maar sy pa het ’n kolonel by HK geken wat ge-wangle het dat hy sy kampe daar kan doen sodat hy steeds Saterdae vir Tuks se o.20A-span kan speel. Maar toe die moeilikheid in Soweto begin, moes hulle almal soontoe gaan.
Die oggend toe daardie foto geneem is, is hulle vroeg uit Pretoria weg in ’n konvooi Buffels, nadat ’n kapelaan vir hulle gebid het. Dit was koud en hy en Jakes het ’n bottel OBS saamgevat waarvan hulle gedrink het. Hy was nog nooit in Soweto nie, sê Flip, en op pad soontoe het hulle by Uncle Charlie’s Roadhouse verby gery. Dit het vir hom vreemd gevoel, sê Flip, om by Uncle Charlie’s verby te ry met ’n geweer in die hand, want toe hy klein was en hulle see toe gegaan het, het sy pa altyd by Uncle Charlie’s stilgehou en vir hulle curly cones gekoop. Hulle was skaars in Soweto, toe is daar ’n klomp jonges wat geboue en karre aan die brand steek. Die polisie het hulle uitmekaar gejaag maar toe die Buffel stilhou, het die luitenant geskree hulle moet help. Hy het nie eens daardie fotograaf gesien wat die foto geneem het nie, sê Flip. Hy is maar klein op die foto, hy staan so half in die agtergrond, met sy R1 in die hand en sy staaldak op sy kop, terwyl die honde na die mense hap. Hy weet nog nie mooi wat om daarvan te dink nie, sê Flip. Hy gaan nou vir altyd, selfs ná sy dood, daar in die Apartheidsmuseum wees. Sal die mense wat hom daar sien – al ken hulle nie sy naam nie – weet dat hy die aand voor die foto geneem is tot laat op ’n bed in ’n bungalow op Voortrekkerhoogte gelê het en nie kon slaap nie? Sal hulle weet hoe bang hy was toe daardie foto geneem is?
JY VERSTAAN NIE, DAAN
Agnes Mazibuku werk Dinsdae by my. Sy is nege en twintig jaar oud, het standerd 6 gemaak en woon op Klipgat, so 60 kilometer buite die stad. Dis min of meer al wat ek van haar weet. Ek het al vir Agnes gevra hoe dit op Klipgat lyk, maar sy kon my nie regtig sê nie want sy is nie baie vaardig in Afrikaans en Engels nie. Ek, weer, verstaan nie Sotho of Zoeloe of Xhosa nie. Sy woon saam met haar ma, haar twee susters en dié se vier kinders in ’n huis met vier vertrekke. Dit het ek darem al uit haar uit gekry. Maar het hulle ’n wall unit van Lewis Stores? En waarop kook hulle kos? En hang daar dalk een van daardie spieëls wat jy by die China shops koop teen ’n muur – een van daai met ’n afbeelding van Jesus se gesig? Natuurlik kan ek soontoe ry en gaan kyk. Maar ek het nie regtig tyd daarvoor nie. Buitendien, ek sal nie sommer met my Polo daar inry nie. Sê nou ek word gekaap? Ek was darem al in Jerry Dibetso wat in my tuin werk se makuku in Atteridgeville. Ek het sinkplate gaan aflaai wat hy by my gekoop het. Ek was die hele tyd bang terwyl ek en hy deur Atteridgeville se stamperige straatjies gery het. Ek wil nie saam met Agnes deur Klipgat ry en weer bang wees nie. Dis makliker om Dinsdagoggende die deur oop te maak, dan staan sy daar. Dan sê ek die rympie wat ek destyds op Siyafunda oor die TV geleer het: Dumelang bagaetsho. Hoe gaan dit? Dan antwoord sy: A gea. Dit gaan goed. Dan begin sy klere was, stofsuig en regpak. Ek het al ’n foto van Agnes geneem. Een van Jerry ook. Ek het ook ’n foto geneem van die ou – ek dink sy naam was Tsepo – wat my DStv kom installeer het.
Ek neem foto’s van alle vreemdelinge wat iets by my huis kom doen. Ek maak ook seker hulle is bewus daarvan want ek verbeel my dit sal hulle huiwerig maak om by my te kom inbreek. Party Dinsdae sien ek Agnes glad nie. Ek los vir haar die sleutel en ’n koevert met geld onder die blompot by my agterdeur, dan gaan ek werk toe. Wanneer ek laatmiddag terugkom, is alles skoon en Agnes is terug Klipgat toe. Soms los sy vir my ’n lysie goed wat ek by Spar moet koop, maar dikwels sukkel ek om dit te verstaan, want min of meer al woord wat Agnes reg spel, is Handy Andy. Ek vermoed sy skryf dit van die bottel af. Eenkeer kon sy nie papier kry om op te skryf nie, toe skryf sy sommer voor in In een kraal, die Hennie Aucamp-versamelbundel, vir my: Ontho m krismasboks next week. Miskien dink Agnes omdat daar so baie boeke in my woonstel is ek moet baie mediese kennis hê want sy kla knaend oor haar kwale by my: Maagpyn, tandpyn, high blood – veral high blood. Eenkeer het sy vir my gesê sy vermoed dis haar high blood se skuld dat sy nie die Lotto kan wen nie. Haar high blood, sê sy, maak haar unlucky. Een oggend, toe sit sy ’n pienk dosie voor my op die tafel neer, en sê: “Help, Daan. Ek wil die test van die pregnant vat.” Eers probeer ek dink wat Agnes dink, maar ek kan nie dink wat Agnes dink nie. Toe tel ek maar die dosie op en lees: Midstream Pregnancy Test. The reliable one-step home test. Binne-in is so ’n langwerpige toestelletjie. Ek begin toe maar saam met haar deur die aanwysings werk. Step 1: Slide back the protective splashguard to expose the absorbent tip. Maar toe ek by die stap kom van hold test with the absorbent tip pointing downward directly in urine stream for at least 10 seconds, toe neem ek Agnes na my buurvrou en sê: Help. My buurvrou het haar gehelp. So twintig minute later is Agnes terug. Met trane op die wange. Die toets is positief. “Daar het jy dit nou, Agnes. Jy weet mos jy moet die birth control gebruik. Wat
gaan nou van daai kind word?” Maar terwyl ek so uitvaar, val Agnes my in die rede. “Jy verstaan nie, Daan.” Sy vee met die agterkant van haar hand oor haar wange. “Ek’s so bly vir die kind. I’m so very, very happy.”
OOP GESPREK
“Het jy gehoor? Schalk en Rezelle het ’n verhouding?” “Ek dog dan hy en Hilda het iets aan.” “Nee, pel, hulle’s uit, die twee.” “Praat jy van Rezelle wat by MTN werk – die een met die mooi bene?” “Ja. Sy.” “Ek het haar dan onlangs by Valiant se show in Steak & Ale saam met Jacques gesien?” “Dit was net ’n fling. Jacques en Melanie is nou saam.” “Genuine?” “Genuine.” “Maar was Melanie dan nie aan Louis verloof nie? Hulle was dan nou die dag saam Zanzibar toe.” “Dit was nou die dag, pel – Louis is glo terug by sy ou girlfriend Carla.” “Carla Pieterse?” “Carla Pieterse, ja.” “Wat het dan van haar ding met Jaco geword?” “Wie se ding met Jaco?” “Carla s’n.” “Dis verby. Jaco sê hy is steeds lief vir Liesl.”
“Maar is Liesl en Dirk se broer dan nie ’n item nie?” “Soort van. Maar Dirk se broer neuk maar lekker rond.” “Het hy nie op ’n kol ’n affair met daardie prokureur se vrou gehad nie?” “Dirk?” “Ja. Dirk. Maar sy’t nou glo by haar gym instructor ingetrek.” “Ek weet van ’n ander ou se vrou wat ook saam met haar gym instructor weggeloop het.” “Wie?” “Freddie.” “Freddie van Wyk?” “Jip. Hy en Annie het ook mos op ’n kol iets aangehad.” “Het jy gehoor van Annie?” “Wat van haar?” “Sy het uit die kas geklim. Sowaar. Sy en haar maatjie, ’n manager by Woolworths. Hulle bly nou saam in Midrand.” “Serious?” “Het julle twee nie ook iets aangehad nie, jy en Annie?” “Net vir ’n rukkie. Daarna het sy mos by Marius ingetrek.” “Marius Fourie – die een wat nou by Lizaan kuier?” “Wat bedoel jy Marius kuier by Lizaan?” “Ek’t hulle nou die aand in News Café gesien.” “Nee, fok, moenie dit vir my sê nie!”
BY OMDRAAI VERBY
Hy weet hy moenie nog ’n whisky drink nie want as hy nou nog een drink, sal hy daarna nog een wil hê. En daarna nog een. En nog een. En dan, nadat hy nog een gedrink het, sal hy opstaan, uit die kroeg stap en in sy motor klim en op pad huis toe sal hy by die drankwinkel op die hoek stilhou en ’n bottel Bell’s en ’n koue blikkie Castle Milk Stout koop. Die Milk Stout sal hy tussen die drankwinkel en die huis in die motor klaar drink, en by die huis sal hy die bord kos in die oond ignoreer en vir hom nog ’n whisky skink. Met die glas in sy hand sal hy dan na die TV-kamer stap en sy vrou sal daar sit en na Oprah kyk. Of Dr. Phil. Of die een of ander sepie. Hy sal haar nie soen nie. Hy sal haar van die deur af groet en iets simpels oor Oprah of Dr. Phil of sepie-akteurs sê, en sy sal hom vra of hy weer gedrink het, en hy sal haar nie antwoord nie. Hy sal by die voordeur uitstap en op die stoep gaan staan en na die kat roep. Maar die kat sal nie kom nie. Of miskien sal hy nie stoep toe gaan nie. Miskien sal hy sitkamer toe gaan en ’n CD in die speler druk: Leonard Cohen of Springsteen se Nebraska of Beethoven – Beethoven se Sesde, om presies te wees. Dan sal hy op die bank gaan sit en daarna luister en dink aan die keer toe hy in die army was en van die grens af teruggekom het en een hele dag met ’n bottel Jim Beam na Beethoven se Sesde in ’n buitekamer in Kerkstraat in Pretoria sit en luister het. Hy het oor en oor daarna geluister en probeer huil. Maar hy kon nie huil nie. Of miskien sal hy net op die bank in die sitkamer gaan sit, en vir die kat wag, en na die goed rondom hom kyk: die skildery van die vissershuisies by Waenhuiskrans teen die muur, die Wetherlys-stoel wat so duur was, die silwer kandelaar langs die Jackson Hlungwane-beeldjie – en dit sal vir hom voel asof dit nie sy huis is nie, asof dit nie hy is wat daar woon nie.
En terwyl hy daar sit, sal sy vrou kom sê sy gaan kamer toe. Hy sal wag tot sy by die deur is, dan sal hy iets vir haar sê – iets onnodigs. Sy sal omdraai en ook iets sê. En dan sal daar baie onnodige woorde wees, voor sy wegstap en die kamerdeur oomblikke later agter haar toeklap. Dan sal hy vir hom nog ’n whisky gaan skink en in die rak in die TV-kamer gaan soek na die DVD van Apocalypse Now, sy gunstelingfliek. Hy sal dit in die speler druk en met die remote voor die TV gaan sit; en wanneer daardie gedeelte kom waar Robert Duvall sê “I love the smell of napalm in the morning” sal hy weer daarna kyk, en weer, en weer. Dit sal al ná elf wees wanneer hy die TV afskakel. Buite sal die buurt se honde steeds sporadies blaf, en hy sal sy leë glas tussen die vuil skottelgoed in die wasbak sit, en die venster in die sitkamer vir die kat ooplos. Dan sal hy gangaf stap, verby hul troufoto, tot by die toe kamerdeur. Hy sal in die donker aan die handvatsel vat, en die deur sal gesluit wees. Dit weet hy terwyl hy oor die toonbank leun en vir die kroegman vra: “Gooi vir my nog ’n whisky, seblief, my pel.”
KOM ONS RY SOMMER ’N ENTJIE
Hy wag tot ná Noot vir Noot, voor hy haar vra of sy saam met hom Menlyn toe wil gaan, vir koffie of ’n drankie by News Café. Dit is al donker toe hulle in Hans Strijdom-rylaan links draai, regs in Rigel, tot op die N1 noord. Maar hy neem nie die Atterbury-afrit na Menlyn nie, hy hou verby. “Wat nou?” vra sy. “Kom ons ry sommer ’n entjie,” sê hy, leun oor en skakel die CD-speler aan. Bruce Springsteen sing: “Seen a man standin’ over a dead dog lyin’ by the highway in a ditch. He’s lookin’ down kinda puzzled pokin’ the dog with a stick ...” Hy skakel die speler weer af en kyk so onopmerklik moontlik na haar in die skynsel van die paneelbordliggies. Dit lyk nie asof sy van hom bewus is nie. Sy kyk stip voor haar, die donker in. Miskien moet hulle eerder oos ry, dink hy toe hulle naby die N4-afrit kom. Maar hy hou reguit, noord, by Teazers en die verligte kruis op die Magaliesberg bokant Villieria verby. In die truspieëltjie sien hy hoe die kruis op die berg al hoe verder van hulle af wegskuif, tot dit net ’n stippel in die donker is, toe niks. “Is jy orraait?” vra hy toe hulle by die Star Stop duskant Pyramid verby ry. “Wil jy nie ’n sjokolade of iets hê nie?” Sy antwoord nie. By Hammanskraal verminder hy spoed; oor die pad hang ’n digte rookwolk wat kom uit die sinkhuisies weerskant van die pad waarin vure gestook word. Bokant die boomtoppe, in Rust de Winter se koers, hang ’n halfmaan op die
horison. Tussen sy bene op die sitplek staan ’n blikkie Amstel wat hy by die huis gevat het. Hy neem ’n diep sluk en dink hoe hy, toe hy klein was, altyd op hulle motor se agtersitplek gelê het wanneer hy en sy pa en sy ma saans van êrens af terug huis toe gery het. Enrico Caruso of Maria Callas het gewoonlik op Almal se Gunstelinge oor Radio Suid-Afrika op die Supersonic-radio gesing, en later het hy aan die slaap geraak, en by die huis het sy pa hom in sy sterk arms na sy bed toe gedra. By Pienaarsrivier draai hy van die N1 af. Die kafee op linkerkant is al toe en voor die Pienaarsrivier Hotel staan net twee motors. Hy kyk weer na haar langs hom op die sitplek, dit lyk nie asof sy iets anders as die donker sien nie. Hulle het een aand in hierdie einste hotel gedans. Hulle was ná ’n langnaweek van die Bosveld af op pad terug Pretoria toe en het hier stilgehou vir ’n vinnige bier. Daardie liedjie van Racey het oor die hi-fi in die kroeg gespeel: “Some girls will, some girls won’t. Some girls need a lot of lovin’ and some girls don’t.” Toe dans hulle sommer daar tussen die omies in die kroeg, net hulle twee. By die kruispad net anderkant die hotel draai hy regs, in Warmbad se koers. Uit die hoek van sy oog sien hy hoe maak sy haar handsak langs hom oop, hoe haal sy ’n sakdoek uit, hoe vee sy daarmee oor haar wange. Hy neem weer ’n sluk bier uit die blikkie tussen sy bene. Die elektroniese horlosie op die paneelbord sê dis 19:56. Die petroltenk is halfvol en die enjintemperatuur normaal. In die donker ooptes anderkant Pienaarsrivier trap hy rem, swaai van die teer af en hou op die gruis stil. Daar is geen ander motors in sig nie. Hy klim uit sonder om iets te sê. Sy bly sit. Dis koud buite en hy druk sy hande in sy broeksakke. Die halfmaan bokant die bome lyk meteens vir hom soos ’n sleutelgat waardeur lig skyn. Hy stap ’n ent van die motor af weg, en gaan staan. ’n Paar oomblikke talm hy in die donker, toe draai hy om en klim terug in die motor. Die sakdoek is steeds in haar hand, sien hy. Hy leun in die sitplek terug, haal diep asem, en toe sê hy vir haar wat hy al so lank uitstel: “Ek wil uit die huis trek. Ek wil skei.”
TOSKANE IN PRETORIA
Hoe voel dit om in ’n Toskaanse villa in ’n voorstad van Pretoria te woon? Sit jy soms op jou patio daar in die Silver Lakes-landgoed en wens die gholfbaan wat voor jou villa verbyloop, is eerder die see? Of ’n Karoose oopte? Of ’n Vrystaatse bloemkomlaning waardeur ’n ligte westewindjie suis? Dink jy soms aan die provinsie Toskane in Italië wanneer jy daar sit? En as jy aan Toskane dink, pla dit jou dat jou villa meer as 15 000 kilometer daarvandaan in Afrika staan? Laat dit jou met ’n gevoel van onvergenoegdheid? Of het dit die teenoorgestelde uitwerking? Voel dit vir jou of jou Toskaanse villa jou nader aan jou Europese wortels bring? Is jou villa een van die min plekke waar jy nog in Afrika tuis voel? Kan jy ’n Toskaanse villa in Waterkloof Glen hê en steeds by jou familie in Rietfontein gesien word? Is dit verpligtend om gholf te speel en ’n grondige kennis van wyn te hê as jy in ’n Toskaanse villa in Pretoria woon? Hoe voel dit om pap en wors in ’n Pretoriase Toskaanse villa te eet? En wat doen so ’n villa aan jou musieksmaak? Kan jy op jou Savannah-bank daar in jou 10 x 15 meter Toskaanse sitkamer sit en kliphard luister na die musiek waarmee jy in die Seventies op ’n dorpie in die Vrystaat grootgeword het: Gé Korsten en Joe Dolan, Heino, Smokie en Pussycat. Of gaan gee jy jou Gé- en jou Heino-musiek eerder vir die charity shop in Lynnwoodweg voor jy na jou Toskaanse villa in daardie amazing nuwe Mooikloofontwikkeling trek? Voel jy jy behoort eerder na Robbie Williams en Vivaldi se Vier Seisoene te luister as jy in ’n Toskaanse villa woon? Kan ’n Toskaanse villa jou daartoe dryf om na ’n opvoering van The Phantom of the Opera in die Staatsteater te gaan kyk, en ná die tyd, terwyl jy cocktails in die Jambalaya Room in Louis Bothalaan drink, praat jy slegs oor die stunning dekor en kostuums? Is jy soms self verbaas wat jou Toskaanse villa aan jou doen? Kom jy byvoorbeeld op ’n dag agter jy dra jou Ray Ban- of Fendi-sonbril knaend op jou voorkop, selfs saans in Menlyn se News Café, en as jy mooi daaroor dink, besef
jy dis sedert jy in daardie Toskaanse villa in Old Farm Road ingetrek het dat jy dit doen? Ontwikkel jy ’n onwilligheid om ander motors eerste by vierrigtingstopstrate en minisirkels te laat ry as jy in so ’n villa woon? Is die versoeking groot om jou motor se agterste nommerplaat te verwyder sodat jy nie opgespoor kan word as jy teen 183 kilometer per uur op die Ben Schoeman ry nie? Het jy ’n knaende begeerte om die nuutste BMW, Volvo of Benz te besit noudat jy in daardie Toskaanse villa in die Tierpoort Estate woon? Of werk dit andersom: Lei die aanhoudende begeerte na die nuutste BMW, Volvo en Benz na die begeerte na ’n Toskaanse villa? Voel jy, sedert jy in jou Toskaanse villa woon, tuiser in die NG Gemeente Moreletapark se R60 miljoen-kerkgebou oorkant die Woodhill shopping centre as in die klipkerke van jou verlede? Sit jy soms in jou villa in Ernie Els-straat in Gholf View Estate en lees gedigte van Van Wyk Louw en Opperman en Breytenbach? Of is die lyne van die nuwe X5, Casa José se Espetada de Camarao, en Simon Rademan se herfsreeks jou poësie sedert jy in jou villa woon? Of vra jy nie jouself al sulke vrae wanneer jy in ’n Toskaanse villa in Pretoria woon nie? Woon jy maar net daar en dis vir jou lekker en jy is lief vir jou plek, met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand? Kan mens eensaam en hartseer raak in ’n Toskaanse villa? Hoekom het daardie vrou gehuil wat ek nou die middag op ’n balkon van ’n villa in Woodhill sien staan het?
MANHUNT
Steyn sê hy het toe uiteindelik die regte black empowerment partner vir sy besigheid gekry. Enos. Nou kan hy ook kontrakte by Public Works, Telkom, Eskom en dié soort van plekke kry, sê Steyn, want met Lukas, sy vorige black empowerment partner, was dit maar moeilik. Lukas was nie baie presentable nie. (Voor Lukas Steyn se partner geword het, het hy agt jaar in Steyn se tuin gewerk.) Enos het nou wel net matriek, sê Steyn, maar hy het struggle connections, al was hy nie self in die struggle nie. Enos was in die Eighties die bestuurder van ’n Chicken Licken in Johannesburg, maar het ouens soos Tokyo en Cyril al persoonlik ontmoet. Enos kom van Alexandra af maar onlangs het hy vir hom ’n huis in Centurion gekoop, sê Steyn. Enos het ook vir hom ’n BMW gekoop – die nuwe X5. Metallic silver. Dis jammer Enos kan nie Afrikaans praat nie, sê Steyn, maar, what the hell, hy doen anyway deesdae omtrent al sy besigheid in Engels. Enos hou darem van rugby. Hy kop wel nog nie die reëls so lekker nie maar dit maak nie saak nie. Solank Enos net ge-collar en ge-tie op ’n Saterdagmiddag in die losie op Loftus kan wees en nie die besigheid se naam gat maak wanneer hulle die manne van Public Works en Telkom entertain nie. Hy en Enos gesels lekker, sê Steyn. Hulle twee lunch baie middae in die Dros en, anders as baie ander ouens en hul BEE partners wat jy altyd in restaurante sien, sit hulle nie net daar en staar ongemaklik verby mekaar nie. Enos vat selfs ’n dop, sê Steyn – en nie net bier nie: Enos drink Johnny Walker Black Label. Steyn sê Enos sê sy struggle connections sê hulle is net so gatvol vir crime maar ons moenie langer op die polisie bargain nie, ons moet dinge self uit-sort.
Enos het ook begin gholf speel, sê Steyn, want deesdae kan jy maar vergeet om kontrakte te kry en deals te maak as jy nie gholf speel nie. Hy wens net Enos wil ophou om sy Kaizer Chiefs-keps te dra wanneer hulle gholf speel, sê Steyn. Dit lyk kak in Woodhill se klubhuis as daar ’n ou met ’n Kaizer Chiefs-keps sit. Hy en Enos was in Desember saam by die Million Dollar op Sun City – as VIP guests in die Nedbank-tent, nogal. Enos het die invites vir hulle ge-organise deur sy struggle connections. Hy is net bang vir een ding, sê Steyn. Hy is bang iemand rokkel Enos af want sodra ouens van ander besighede sien jou BEE partner is beter en meer presentable as hulle s’n, manhunt hulle hom. Die ouens manhunt mekaar se black empowerment partners kwaai, sê Steyn. Twee sakepelle van hom wat albei in Woodhill woon, praat nou al hoe lank nie met mekaar nie omdat die een die ander se black empowerment partner gemanhunt het. As jy deesdae aan ’n man se BEE partner vat, sê Steyn, dan vat jy aan hom. Party ouens, sê Steyn, is so desperaat om die regte black empowerment partner te kry dat hulle hul tot BEE links wend. BEE links werk amper soos ’n dating club: Jy registreer by hulle, dan kry hulle vir jou die geskikte black empowerment partner. ’n Ander vriend van hom, sê Steyn, het nou die dag vir hom gesê hy is bereid om sy Mercedes SLK op te gee as hy net ’n ander BEE partner kan kry, want sy BEE partner vra te veel vrae oor hoe die company ge-run word. Hy het nie daai probleem met Enos nie, sê Steyn. Enos wil net elke maand sy cut hê, verder wil hy nie veel van die maatskappy se balansstate en belastingvorms en BTW-eise en sulke dinge weet nie. Hy kan nie sy luck glo nie, sê Steyn.
ZORBA SE DANS
Zorba was Theo, die kafee-eienaar op een van die baie dorpe waar ek kind was, se broer. Zorba is nooit skool toe nie. Hy was al in die dertig, toe praat hy nog so agter uit sy keel uit soos ’n kind. Sy mond het dikwels oopgehang, en soms het hy op ’n stoel agter Theo se toonbank gesit en deur die Bollie geblaai en kortkort kliphard gelag vir oom Dik Daan en Krabbel se gedoentes. Partykeer het Theo vir Zorba takies gegee om te doen: Hy moes die stoep vee of koeldranke in die koelkas pak of ’n pakkie poskantoor toe neem. Maar meestal het Zorba agter die toonbank of stil op ’n koeldrankkissie op die stoep gesit met blink kwylstrepe oor sy kennebak. Zorba het nie soggens saam met Theo in sy Datsun 120 Y kafee toe gery nie. Hy het later die oggend gestap, verby die hospitaal, verby ons huis, af in 4de Straat; en altyd het hy sulke geruite langmouhemde gedra met die moue afgerol en die boonste knoop vas; winter en somer. Smiddae, hier halfvier se kant, het Zorba weer teruggestap van die kafee na die huis – naby die vendusiekrale – met die stukkende motorkarre in die voortuin waar hy saam met Theo-hulle gewoon het. Miskien het Zorba daardie tyd van die middag huis toe gegaan om betyds te wees wanneer Wielie Walie en die ander kinderprogramme op die TV begin. Ek weet nie. Een middag was ek en Stoffel besig om spieëltjies aan ons fietse te sit toe Zorba daar op die sypaadjie verbystap op pad terug huis toe. Toe, sommer net vir die grap, draai ek die spieëltjie so in my hand dat dit die son op Zorba laat reflekteer, eers op sy bene, toe sy bolyf. Zorba het gaan staan en verskrik na die blink weerkaatsing in sy oë gegryp. As jy twaalf jaar oud is, is dit ’n koddige ding om te sien, want Zorba het nie ’n idee gehad waar hierdie helder ding vandaan kom nie. “Kom ons laat ou Zorba ’n bietjie twist,” het ek gesê en die spieël effe laat sak
sodat die helder kol hier voor op Zorba se hemp lê. Zorba het met albei hande na daardie weerkaatsing gegryp. Toe lig ek weer die spieël en laat die son in sy oë skyn. Toe gryp Zorba weer na sy oë. Toe laat ek ou Zorba soos ’n marionet beweeg, gryp-gryp met sy hande na die son se weerkaatsing op sy lyf, asof hy op die maat van Chubby Checker se “Let’s twist again” dans: “Let’s twist again, like we did last summer. Yeah, let’s twist again, like we did last year!” Dit was nie die laaste keer dat ons dit met Zorba gedoen het nie. Daarna het ons hom nog ’n paar middae laat twist terwyl ons agter die muur staan en vir hom lag. “Do you when things were really hummin’? Yeah, let’s twist again, twistin’ time is here!” Ek het nou die middag weer daardie liedjie oor die radio gehoor. Ek het gedink ek het Zorba al vergeet.
GROOTMANNE SE NARTJIES
In Pretoria parkeer Pa die Valiant op ’n sypaadjie met een wiel skuins op die randsteen. Ons klim uit, ek en hy en oom Apie. Ons is vroegoggend al by die huis weg, ons drie. Rye-rye mense stap op die sypaadjie verby. Party het verkykers om hulle nekke en kussinkies in hul hande. Hulle gaan ook Loftus toe. “Wil een van julle ’n draai loop?” vra Pa en beduie na die toilette in die parkie oorkant die straat. Ek en oom Apie wil nie. Pa stap soontoe. Oom Apie klim halfpad terug in die Valiant. Hy het ’n sakkie nartjies by hom, waarvan hy op pad kort-kort een geëet het, sonder om vir ons ook te gee. Hy knoop die sakkie oop en haal eers ’n spuitnaald, toe ’n kleinerige bottel uit die papiersak by sy voete. Brandewyn. Hy skroef die bottel se prop af en trek die spuitnaald vol. Een vir een spuit hy die nartjies in. “Wat maak Oom?” vra ek. “Hè, Oom?” “Ek gee my nartjies turbo, ou beesblaas,” sê hy en kyk kwaai na my. “Jy sê niks vir jou pa nie, oukei?” Pa kom weer oor die straat gestap. WP speel teen die Blou Bulle en dis die eerste keer dat ek saamkom Loftus toe. Ons begin in dieselfde rigting as die ander mense stap. ’n Paar straatblokke verder sien jy Loftus se pawiljoene. Hoër as ons dorp se kerktoring steek dit bokant die huise uit, met die spreiligte se blink oë wat bo uitsteek. Dis baie anders as daardie hoenderstellasie van ’n pawiljoen langs ons dorpsveld. Hoe nader ons aan die pawiljoene kom, hoe meer lawaai is daar: roomysverkopers se klokkies, die skare wat op die pawiljoene sug, en iewers kom musiek oor ’n radio: “Vat hom, Dawie, vat hom laag ...” “Pro-vi-hince!” skreeu ’n man ’n ent voor ons.
“Nou die Blou!” antwoord oom Apie langs ons met die sakkie nartjies styf onder sy arm vasgeknyp. Ons sitplekke is op die onderste vlak van Oospawiljoen. Oom Apie het vir ons die kaartjies gekry. Sy dogter is oom Geyer, die prokureur op ons dorp, se tikster, en oom Geyer se ma werk op die skakelbord by Sanlam in Pretoria waar Thys Lourens, die Blou Bul-kaptein, polisse verkoop. Toe reël sy deur Thys vir ons kaartjies. Ons stap nie alleen na ons sitplekke toe nie. ’n Penkop van die Voortrekkers in ’n bruin uniform neem ons soontoe: Ry F, nommer 4 en 5 en 6. Oom Apie vat na die knipmes wat heen en weer aan ’n geel tou aan die Voortrekkertjie se belt swaai, en sê: “Lekker tiepa wat jy hier het, ou grootman.” “Los die kind, Apie,” sê Pa. “Toe, kom sit nou.” Oom Apie sit links van my. Die sonnetjie skyn lekker warm en hy knoop sy hemp se drie boonste knope los. Tussen sy borshare hang ’n St. Christopher. Pa het ’n wedstrydprogram by die hek gekoop. Op die voorblad is ’n foto van Morné du Plessis, die WP se kaptein. “Ou Jeronkie,” sê oom Apie en wys daarna. “Halfgiraffe, halfdonkie.” Die hoofvoorwedstryd is aan die gang: Polisie en Weermag. Maar oom Apie kyk nie rugby nie. Hy eet een nartjie na die ander en skreeu kort-kort: “Nou die Blou!” In die gangetjie tussen die sitplekke kom ’n meisie aangestap. Haar denimbroek span styf. Oom Apie staar na haar, fluit, en sê kliphard: “Bliksem, het julle daai Volkswagen-bonnet gesien?” “Apie, Apie, Apie,” sê Pa en laat sak sy voorkop in sy hande. Langs Pa sit ’n oom met veldore aan. Dit werk amper soos ’n radio: Jy huur dit, dan kan jy oor ’n oorfoontjie luister wat sê die skeidsregter als op die veld. Opeens, oorverdowend hard, skiet ’n Mirage oor die stadion en verdwyn in die verte. “Ek’t mos vir die aia by die huis gesê sy moet die bleddie budjiehok toemaak!” skreeu oom Apie en bring ’n wind op.
Die mense rondom ons lag – behalwe die tante op die sitplek reg voor oom Apie. Haar hare is hoog ge-tease en langs haar sit haar man. Hy kyk kwaai om na oom Apie. “Onthou, hier is vrouens ook, Meneer,” sê hy. Die hoofwedstryd gaan byna begin. Op die veld gebeur nou baie dinge. Die Gevangenisdiensorkes tree voor die hoofpawiljoen aan. Hulle speel “Die heidelied” en marsjeer oor die veld, terwyl oom Apie vir hom nog ’n nartjie skil. ’n Man kom oor die veld gehardloop. Hy het net ’n onderbroek aan en twee polisiemanne met honde jaag hom. Oral lag mense. Net voor die honde die man inhaal, klouter hy teen een van die regoppale by die oorkantste doellyn uit. Hy gaan sit op die dwarspaal terwyl die honde onder vir hom staan en blaf en die mense cheer. Dan kom ’n stem oor die luidsprekers: “Dames en Here, sal u asseblief opstaan, Sy Edele die Eerste Minister John Vorster en sy gevolg het pas gearriveer.” Almal op die pawiljoene word stil. Ons staan op. Party mans haal hulle hoede af. Selfs die ou in die onderbroek staan stil en regop op die dwarspaal en kyk na die hoofpawiljoen waar die eerste minister nou arriveer. Ná ’n kort stilte sê die stem weer: “U kan maar weer plaasneem in u sitplekke, dankie.” Oom Apie maak asof hy met ’n verkyker na die oorkantste pawiljoen kyk waar die eerste minister ’n stippeltjie tussen die mense is. “Ou Ben word ook lekker vet, nè,” sê hy. ’n Sersant met ’n stokkie onder die arm gaan praat met die man in die onderbroek op die dwarspaal. Hy beduie kwaai met sy arms. Later gly die man teen die paal af. Die sersant lei hom aan sy arm weg, voor ons pawiljoen verby. Almal cheer. Op die man in die onderbroek se bors staan met Shushine geskryf: Hallo, Ma. Dan kom die spanne op die veld gedraf. Eers die WP met Morné du Plessis vooraan. Oom Apie skulp sy hande weerskant van sy mond, en skree: “Boo-hoehoe!” Dan kom die Bulle uit die tonnel, Thys Lourens voor met sy sweetband en sy side-whiskers. “Thysie! Thysie!” roep oom Apie en haal ’n vars nartjie uit die sak. “Watch nou vir Moaner,” sê ’n oom agter ons. “Watch vir Moaner. Hy’s ’n bliksem met die afskoppe.”
Naas Botha skop af. Hoog trek die bal. Moaner storm heel voor met ’n nommer 5 op die rug. Die WP-ouens spat van hom af weg. Die skeidsregter blaas hard op sy fluitjie en sy hand skiet die lug in. Strafskop. Moaner was voor die bal. Oom Apie kom regop. In sy een hand is ’n nartjie, in die ander ’n sigaret waarvan die kooltjie al amper tot teen sy hand gebrand is. “Ref!” skree hy. “Daar’s foon vir jou!” “Sit!” skreeu ’n man vier rye agtertoe vir oom Apie. “Sit!” Oom Apie swaai om. “Fok jou, oukei!” skree hy vir die man. “Apie, Apie,” sê Pa en trek oom Apie aan sy hemp af tot op sy sitplek. Die WP se skop pale toe is mis. “Justice,” sê oom Apie. “Justice.” Hoe langer die wedstryd duur, hoe moeiliker raak oom Apie. Toe ’n WP-speler op die gras gaan lê met ’n besering, skree oom Apie: “Skiet hom, moenie lat hy ly nie!” Daar is ’n skrum. Die Bulle se skrummie gooi die bal in. Hy tel dit agter op en vir Naas. Dan is Morné by Naas – en hy tref hom. Met die skouer. Hard. Naas val op sy rug en bly lê. Oom Apie is weer regop. “Jeronkie, jou vark!” skree hy. “Dan stem jy nog vir die PFP ook!” “Sit!” skreeu die ou agter ons. “Sit!” Toe tref ’n nartjie oom Apie. Teen die kop. Oom Apie swaai om, maar hy is effe onvas op sy voete. Die tannie met die ge-teasde hare voor hom skreeu histeries: “My hare!” Oom Apie se sigaret het in haar hare beland. Sy begin vlamvat. Haar man vou ’n sakdoek oop en druk dit oor haar kop. “Kom,” sê Pa. “Kom.” Hy druk oom Apie voor ons uit tot in die gangetjie. Ek moet draf om by hom en oom Apie te bly. Halfpad op pad na die uitgang wil oom Apie omdraai. Pa gryp
hom aan die bors. Jy’t nou al klaar groot genoeg fools van ons almal gemaak,” sê Pa. “Kom.”
In die Valiant op pad huis toe praat Pa en oom Apie nie met mekaar nie. Pa skakel nie eens die radio aan om die wedstryd klaar te luister nie. Hy sit net daar agter die stuurwiel, so skuinserig, en byt-byt op sy tande, soos altyd wanneer hy diep dink. Later raak oom Apie oopmond langs hom aan die slaap. Twee van oom Apie se nartjies is in die sakkie tussen hulle oor. Pa neem een, skil dit af, breek ’n paar skyfies af, en sit dit in sy mond. “Kan ek ook maar een kry, Pa?” vra ek. “Nee, hulle’s vrot,” sê Pa, haal die laaste nartjie uit die sakkie en gooi dit by die venster uit.
SOOS ’N VLEUEL OP PAD NA DIE DOELLYN
Beste oom Frik Ek lees in die koerant Oom het verjaar. Oom het sewentig geword. Wat kan ek sê? Ek en Oom kom ’n lang pad, hoewel Oom dit nie eintlik weet nie. Ek was vyf of ses jaar oud, toe wil ek al soos Oom wees. Ek het toe nog nie aan Oom as ’n oom gedink nie. Oom was toe net vir my Frik du Preez, die rugbyheld. Ek onthou in 1971, kort ná Oom uitgetree het, het Huisgenoot ’n Frik du Preezbylaag gepubliseer. Ons het toe op Daniëlskuil gewoon, ’n dorpie in die NoordKaap. Die Huisgenoot het eers Saterdae by ons uitgekom, en die Saterdag toe die een met daardie bylaag moes kom, was die afleweringsbakkie laat. Ek het van elfuur die oggend af op oom Mike se kafee se trappie daarvoor sit en wag. Tussendeur het ek darem twee blikkies Groovy-koeldrank gedrink. Ek het ook ’n Wallsroomys geëet en binne-in het ek so ’n kaartjie gekry van John Love in sy Lotusresieskar. Die middag toe die bakkie uiteindelik in ’n stofstreep van Postmasburg se kant af kom, het oom Mike my so jammer gekry dat hy vir my ’n spul niekerbôls én daardie Huisgenoot present gegee het. Oom Mike is al oorlede. Daardie Frik du Preez-bylaag het ek ook nie meer nie. Ek het wel ’n soortgelyke een by my vriende Cor en André Herbst se ma, tannie Tillie, gekry. Tannie Tillie is intussen ook oorlede. In daardie bylaag is ’n foto waarna ek steeds soms kyk. Oom moet daardie foto ken. Wessel Oosthuizen, wat vir Die Vaderland gewerk het en nou ook al oud is, het dit tydens die tweede toets teen die All Blacks op Nuweland geneem. In ’70. Dis daardie foto waarop Oom die All Black-skrumskakel Chris Laidlaw tackle.
Maar Oom tackle hom nie net nie, Oom sit so half op sy rug met Oom se een hand oor sy mond en Oom se vuis teen sy agterkop, terwyl Albie Bates (hy is ook seker al oud) aan Laidlaw se bene hang. Laidlaw is daarna met harsingskudding van die veld af. Ek en my pel Johnny Virtue het een middag in ’71 besluit om daardie toneel op ons grasperk in 3de Straat te laat herleef. Ons het net gesukkel om iemand te kry om die rol van Chris Laidlaw te vertolk, Oom. Niemand wou vrywillig so ge-tackle word soos Oom vir Laidlaw ge-tackle het nie. Maar toe kry ek ’n plan, Oom. Ek gaan haal Sophie, die vrou wat in ons kombuis gewerk het, se seuntjie uit die bediendekamer agter in ons jaart. Sy naam was Bernard, hy was ’n jaar jonger as ek en Johnny. Hy het nie eintlik veel van rugby geweet nie, want in die skool in die lokasie het hulle nie rugby gespeel nie, Oom. Ek en Johnny het my Super Springbok nommer 4- rugbybal (jy kry dit nie meer nie) vir Bernard gegee en gesê: “Hardloop, my tattatjie. Gaan druk ’n drie.” Toe sit ek hom agterna, want ek was Oom, ek was Frik. Kort agter my het Johnny gehardloop, hy was Albie Bates. Hy het selfs een van sy suster se Alice bands as sweetband gedra, want oom Albie het mos altyd met ’n sweetband om sy kop gespeel. Naby my pa se rotstuin het ons Bernard ingehaal, ek en Johnny. Ek het op sy rug gespring met my hand oor sy mond en my vuis teen sy agterkop. Johnny het aan sy bene gehang. Nes op daardie foto. Bernard het gehuil en daar het bloed uit sy mond gekom toe hy uiteindelik opstaan, Oom. Oom Shorty, ons buurman, het gesien wat gebeur, waar hy op sy gekrokte Holden se agter-seat op sy stoep gesit het. Hy het te lekker gelag en draad toe gekom. “Mooi so, bulle” het oom Shorty gesê. “Julle gaan nog eendag vir die Bokke speel.” Bernard wou teruggaan kamer toe, maar oom Shorty het gesê hy moet weer hardloop. Hy wil weer sien hoe tackle ons hom. (Daar was toe al replays, Oom.)
Bernard wou nie weer hardloop nie, tot oom Shorty gedreig het om oor die draad te klim en hom ’n helse pak slae met sy belt te gee. Toe hardloop Bernard maar weer, en ons tackle hom weer, nes op daardie foto. Dié keer het dit Bernard seker vyf minute geneem om op te staan. Sy kniekoppe was stukkend en drie van sy hemp se knope af. Ek weet nie waar is Bernard deesdae nie, Oom. Ons sal mekaar nie meer herken as ons mekaar sien nie. Ek weet nie waarom skryf ek dit als vir Oom nie. Eintlik wil ek maar net sê die tyd gaan verby, Oom. Die tyd gaan verby soos ’n vleuel op pad na die doellyn – en jy kry hom nie ingehaal nie. Sorrie, Oom. Groete.
DIE VIERDE BESTES
Ons was eintlik maar ’n hopelose klomp, ons wat vir ons hoërskool se vierde rugbyspan gespeel het. Flip Momsen, onthou ek, was die losskakel. Sam van der Walt en Henk Dafel die senterpaar. Eddie Scholtz en Boenas was die slotte, Piet Spek die een stut, en ek die haker. Ou Bees, ons biologie-onderwyser, was veronderstel om ons af te rig, maar eintlik het hy net Dinsdag- en Donderdagmiddae met ’n fluitjie agter ons aan gedraf en nou en dan – as hy nie te uitasem was nie – vir ons voorspelers geskreeu: “Gee rug en pak saam, bulle! Pak saam!” Soms het hy ook geskree: “Die bal! Die bal!” Wat presies hy daarmee bedoel het, weet ek vandag steeds nie. Vir die agterspelers was Bees se standaardadvies: “Een tree, en . Een tree! Een tree!” Soms wonder ek waarom ek ooit rugby gespeel het. Talent vir die spel had ek beslis nie, en vir roem het ek dit ook nie gedoen nie: Ons het op die C-veld ver weg van almal geoefen en ons wegwedstryde altyd êrens op ’n pawiljoenlose, verdorde agterveld naby die skool se skietbaan gespeel. Ek dink ek het maar gespeel omdat dit my die geleentheid gegee het om soms Saterdae uit die koshuis te kom en ’n bietjie die wêreld te sien. Ellisras, Warmbad, Settlers, Thabazimbi, Pietersburg – op sulke plekke het ons gaan speel. Ons het altyd met die skoolbus gery, ’n ou, groen International met die skoolwapen op die kant geverf, asook die skool se leuse: Waak en werk. Dit was gewoonlik nog donker wanneer ons Saterdagoggend in die bus geklim het. Of dit was nie sommer net vir inklim nie: ’n Bepaalde rangorde het gegeld. Vuilbeen, Boenas, Jan Koster en Boesman Pretorius het op die heel agterste bank gesit. Hulle was rowwe ouens wat Winstons gerook en die name van popgroepe
soos AC/DC en Black Sabbath op hulle toksakke geskryf het. In die volgende ry het die rowwe ouens gesit wat meisies gehad het: Eddie Scholtz en Driekie Seegers, Piet Skyfies en Koekie Ahlers. En dan het die ouens gekom wat graag rof wou wees – ouens soos ek en Sam, wat maar gesukkel het om ’n Winston se rook in ons longe te kry, en wat eintlik meer van Four Jacks & a Jill as AC/DC gehou het. En al het ek en Sam ook oopmond Chappies gekou soos Vuilbeen-hulle en ons hare middelpaadjie soos Bobby Ewing van Dallas gekam, wou die netbalmeisies wat ietwat verskrik in die middel van die bus gesit het, nie vir ons val nie. Heel voor, reg agter oom Arrie die busdrywer, het Tienie Tol gesit, wat musiek as skoolvak gehad en as vlagman saamgegaan het. Wanneer ons teen die bult by vendusiekrale uitgesukkel het, kon jy nie die dorp se liggies sien nie, so het daardie ou International gerook, terwyl Piet Skyfies vir Koekie oopmond op die tweede sitplek van agter soen. Op Naboom het oom Arrie gewoonlik vir ons by George se bakkery stilgehou. George se brood was daardie tyd van die oggend nog warm. Ons het elkeen ’n witbrood en ’n halfliter melk gekoop, en terug in die bus het Boenas en Vuilbeen gewoonlik elkeen twee Crunchies uit hulle broeksakke gehaal wat hul van George se rakke af gevat het sonder om daarvoor te betaal. Ons het gewoonlik hier tien-, elfuur se kant die oggend gespeel, net ná die o.15B’s. Flip Momsen was ook ons kaptein - ’n onrusbarend toegewyde een. Momsen het geglo hy is eintlik Cravenweek-materiaal wat in die eerste span hoort. Elke goeie vierde span het minstens een so ’n speler – een wat glo as sy pa ook op die skoolraad was en sy ouer broer het nie die vorige jaar amper met ’n onderwyser handgemeen geraak nie, sou hy ook vir die eerstes uitgedraf het. Momsen was ons s’n. “Ek soek julle in die kleedkamer, boys,” het hy gewoonlik so veertig minute voor die begin van ’n wedstryd gesê, al het ons nie regtig ’n kleedkamer nodig gehad nie. Ons het al ons truie, broeke, kouse en ons knee-guards aangehad die oggend toe ons in die bus geklim het. (Ek weet nie, miskien was dit ’n
onbewuste soeke na simpatie, maar byna elke ou in ons span het minstens een knee-guard gedra. Dit was deel van jou basiese mondering.) Momsen het gewoonlik maar gesukkel om ons bymekaar te kry, want veertig minute voor die wedstryd het meer as die helfte van die span nog êrens agter ’n kleedkamer of die skietbaan gestaan en rook. Net vyf van ons, insluitende Bees, die afrigter, het nie gerook nie. Wat onthou ek die beste van Momsen se spanpraatjies? Die reuk van Deep Heat – die wonderlike, soet, nostalgiese geur van Deep Heat. Maak nie saak waar ek is nie, wanneer ek Deep Heat ruik, staan ek opeens weer in daardie kringetjie met my knee-guard aan, tussen Boenas en Jan Koster, terwyl Momsen goed sê soos: “Onthou net een ding, boys: Hulle is net so bang soos ons.” Of: “Boys, ons moenie toelaat dat hulle hul speelpatroon op ons afdwing nie.” Nie een van ons het eintlik verstaan wat hy daarmee bedoel nie, maar ons het instemmend geknik. Momsen het vooraf ook baie gewroeg oor of ons eerste moet afskop of nie as hy die loot sou wen. Om af te skop, was vir ons altyd die beste keuse – nie omdat ons geglo het dit kan ons in ’n aanvallende posisie plaas nie. Ons was bang as die ander span afskop, vang ons die bal mis. Momsen het ook voor elke wedstryd gesê: “Julle moet vandag als gee, boys. Ek het gehoor Die Beer gaan kom kyk hoe ons jôl.” Daar was altyd ’n gerug dat Die Beer, ons skoolhoof, na een van ons wedstryde sou kom kyk. Maar Die Beer het nooit gekom nie. Kort voor die wedstryd het ou Bees wel opgedaag, maar hy het nie veel gesê nie. “Bulle, onthou net wat ons op die oefenveld gedoen het,” was gewoonlik sy enigste raad. Soms het hy ook gesê: “Maak hulle eers sag voor, bulle, en speel dan die bal wyd.” Dan, net voor ons moes opdraf, het Momsen ’n gebed gedoen waarin hy die Here gevra het dat ons nie moet seerkry nie. Soms het hy ook subtiel geskimp dat die beste span moet wen, en dat dit tog ons moet wees. Ek wil oor iets bieg waaroor ek nog altyd stilgebly het: Ek, die haker, wat die bal by die lynstane moes ingooi, het nie ons lynstaantekens verstaan nie. Dit was altyd ’n spul syfers wat Vuilbeen, die agsteman, geskreeu het. “Agt! Sestien!
Vyf! Drie! Of: “Agtien! Twaalf! Vyf! Sew”e! En dan moes ek gou bepaal waar om die bal te gooi, met behulp van ’n misterieuse formule wat Vuilbeen self nie verstaan het nie omdat dit al sy tweede jaar in standerd 8 was. In die skrums het dit makliker gegaan. Kiewiet, ons skrummie, het net geroep: “Vories, die bal kom, ja-ha!” Dan het ons gestoot. Of verder in skrumformasie gestaan en rus. Maar in die skrums het ons weer ’n ander probleem gehad: Piet Spek, ons losskopstut, mag nie geskrum het nie. Oor sy baard. Piet Spek se baard het rasperskerp gebly al het hy die oggend voor ’n wedstryd met die skerpste Minora blades geskeer. ’n Ma van een van die stutte wat een wedstryd teen Piet Spek gespeel het, het by die Onderwysdepartement gaan kla, want haar kind moes byna ’n veloorplanting kry ná sy geskrum teen Piet Spek. Toe bepaal die departement: Piet Spek mag vir ons speel, maar hy mag nie skrum nie. Met skrums het Piet op heelagter gaan staan: Henk Dafel wat heelagter was, het dan op flank in Kosie Pronk se plek kom sak. Pronk het dan in Piet Spek se plek op stut waargeneem. Ons was nie ’n baie taktiese span nie. Ons mees gevorderde agterlynbeweging was die skêr of fopskêr; ’n oorslaanaangee was bloot ’n toevallige flater. Dit is vreemd: Ek kan nie onthou watter wedstryde ons gewen en watter ons verloor het nie. Of, nee, ek jok: Teen Tom Naudé Tegnies het ons ver verloor. Tien minute voor die einde van die wedstryd, terwyl ons reeds met iets soos 47 – 0 agter was, het Tienie Tol, ons immer entoesiastiese vlagman, in ’n hoë stemmetjie van die kantlyn af geskreeu: “Doen iets onverwags, ouens! Doen iets onverwags!” Dit onthou ek. Kort daarna het Buys, ons linkervleuel, toe wel iets onverwags gedoen terwyl ou Bees van die kantlyn af “Die bal! Die bal!” gil. Hy het die bal met ’n oop doellyn ráák-gevang en gaan druk. Gewoonlik het Buys sulke balle misgevang. Elke goeie vierde span het ook mos so ’n vleuel – een met verbysterende vaart, maar baie swak hande. Elke goeie vierde span het ook ’n speler wie se pa of ma soms tydens wedstryde op die veld storm en dreig om die skeidsregter of een van die ander span se spelers aan te rand. Vuilbeen se pa het dié rol vir ons vervul.
Eenkeer het hy vir ’n skeidsregter geskreeu: “Man, ek sal jou fluitjie so diep in jou gat opdruk dat nie eens dokter Conrad Brand dit sal uitkry nie, oukei!” Was dit toe ons teen Warmbad gespeel het? Ek is nie seker nie. In my lessenaar se onderste laai het ek nog ’n foto van daardie span van ons. Soms haal ek dit uit en kyk daarna. Ons almal glimlag.
FABIAN VLIEG
Hallo? Hallo? Hoor Meneer my? Hallo? Hallo ...? Kan Meneer my nou hoor? Dis Fabian hier – Fabian van der Merwe. Ek bel hier van Welkom af. Van die hospitaal af. Onthou Meneer my? Ek’s die een wat daar by die Dros in Hatfield karre opgepas het. Meneer het mos Meneer se kaartjie vir my gegee. As ek trouble het, het Meneer gesê, kan ek bel. Ai, my meneer, ek het fokken groot trouble. Ek was mos met die bus op pad PE toe. Meneer onthou mos. My broer sou mos vir my ’n job by Firestone ge-organise het, al is ek eintlik ’n boilermaker. Maar op pad, toe wil ek eers by my pel hier op Welkom aangaan. Toe klim ek met my soetkys op Kroonstad van die bus af, Meneer. Meneer weet mos een ding lei tot ’n ander. Het ek gedrink ...? Ek ...? Gedrink ...? Kom ek sê vir Meneer só: Ek’t net twee biertjies gedrink. Ek’t net twee biertjies op Kroonstad gedrink, toe gaan staan ek langs die Welkom-pad en hike, Meneer. Maar dit was al donker. En mense laai jou nie op wanneer dit donker is nie. Hulle fok mos almal verby. Hier ná tien die aand, toe hou hierdie Nissan Langley darem by my stil, Meneer. Met vier sulke jong latte in. Lekker la-di-da. “Soek jy ’n lift, my oom?” vra die een agter die wiel. Maar toe daai laaitie sy bek oopmaak, Meneer, toe hoor ek hy’s dronk. Maar daai tyd van die aand vra jy nie vrae nie. Ek sê toe, ja, ek soek ’n lift. “Nou hop maar op, my oom,” sê daai laaitie. Ek wil nog omstap, toe klim hy uit die kar, en sê: “Nee, sorrie, my oom. Ons is
vol binne. Klim op die roof carrier as jy wil.” Ai, Meneer, ek kyk so na die piknagdonkerte om my, en dink: Hier kan ek nie bly nie. Hulle slaat my vrek daar langs die pad en vat my goed. Toe klim ek met my soetkys op daai roof carrier, Meneer. Ek het net die twee biertjies ingehad, Meneer. Ons het nog nie eens mooi weggetrek nie, toe weet ek dit was ’n mistake om op daai roof carrier te klim. Want toe laat waai daai klein dronkgat met die Langley. En ek klou net. Ek klou. En skreeu help nie, Meneer. Dit help fokkol. Die wind waai die woorde uit jou mond uit. Toe ons daai straight by Merriespruit strike, toe voel dit of ’n man gaan opstyg soos ’n Boeing, Meneer. Maar ek klou. Ek klou. My oë traan, Meneer, en die goggas slaat teen my gesig vas. Maar ek klou. By Allanridge, Meneer, by Allanridge, toe waai my soetkys agter my van die roof carrier af. Maar daai klein stront sien dit nie eens nie. Hy jaag. Ken Meneer daai sirkel as jy Welkom inkom – die een daar by die roadhouse? Toe ons hom strike, toe weet ek hier kom trouble, want toe begin daai roof carrier onder my wobble. Toe weet ek die ding is nie ordentlik vasgedraai nie, hy begin loskom. Ek probeer aan die dak vasgryp, Meneer. Maar toe druk daai klein dronkgat die Langley se neus in die draai in. En toe styg ek op, Meneer. Verder onthou ek fokkol, Meneer. Ek weet nie of ek of die roof carrier die pavement eerste gestrike het nie. Ek het eers hier in die hospitaal wakker geword. Hallo? Meneer? Hallo ...? Hoor Meneer my? Hallo? Ek bel hier van ’n tiekieboks af. Meneer kan my nie dalk gou terugbel nie?
DIE HELDER LIG
Ek en Japie sit in Palamino’s op Ventersdorp. Dis ’n Dinsdagaand en dis net ons twee by die toonbank. Ons drink bier en hy vertel my hoe hy sy Isuzu-bakkie twee maande gelede op die pad tussen Northam en Thabazimbi afgeskryf het. “’n Tyre het gebars. Toe’s dit nag, tjomma.” Hy kyk met flou blou ogies na my oor sy glas. Sedert die ongeluk dra hy twee identiese rooi What-would-Jesus-do?-armbandjies om sy regterpols. “Ek was amper moerland toe.” Hy vat ’n diep sluk van sy bier. Hy het skedelbreuk opgedoen, sy longe het platgeval en sy een oor is van sy kop af geskeur. Hy draai sy kop sodat ek sy linkeroor kan sien. “Vat aan my oor, tjomma.” Hy bring sy kop nader. “Toe, vat hom en trek hom.” Rondom die oor is sulke fyn stekies. Dit lyk amper soos ’n ritssluiter wat toegetrek is. “Fok, tjomma, ek sê vat my oor en trek hom.” Ek klamp my duim en wysvinger om Japie se oorlob. “Trek. Toe, trek.” Ek trek liggies aan sy oor. “Harder, man! Fok! Harder!” Ek gee sy oor ’n harde trek. “Oukei, oukei, dis genoeg, tjomma.” Ek los Japie se oor. Hy kyk na my en glimlag. “Kan jy voel hy’s vas?” Ek knik.
“Dis omdat ek nie in ’n bliksemse staatshospitaal was nie. Ek was in die MediClinic op Rustenburg.” Hy haal ’n pakkie sigarette uit sy hemp se bosak. Royals. Of soos hulle dit hier noem: Ventersdorp Camels. Hy skud een uit die pakkie en tel die groen Bicaansteker langs die bos sleutels op. “Eintlik wás ek ’n rukkie dood. Hulle moes my met een van daardie masjiene shock om my hart weer aan die go te kry.” Hy druk die sigaret tussen sy lippe in, maar steek dit nie brand nie. Hy trek dit weer uit. “Jy weet mos hulle sê dit voel of jy in ’n tonnel ingaan wanneer jy doodgaan.” Hy kyk weer na my. “Dis waar, tjomma. Ek wás in daai tonnel.” Hy sit die sigaret neer en tel die glas op. Hy neem ’n sluk, sit die glas neer, en tel die sigaret weer op. “Kom ek sê jou, tjomma, jy move teen ’n helse spoed in daai tonnel af.” Hy druk die sigaret weer tussen sy lippe in. Bokant ons koppe “pieng” ’n besie teen die buislig en val naby ons op die toonbank, op sy rug, dood. Japie trek die sigaret weer uit sy mond. “Ek sal nie sê ek was bang toe ek in daai tonnel af move nie, tjomma – behalwe toe ek om die draai gaan.” Hy tik weer met die sigaret op die toonbank. “Die tonnel maak so ’n draai, ’n skerpe. En toe ek om daai draai gaan, toe’s daar skielik hierdie helder lig voor my – hierdie helder, helder, helder lig.” Hy sit die sigaret weer neer, tel die glas op, vat ’n sluk en laat sak die glas weer. “Jy sal my nie glo nie, tjomma, daai lig het my so verblind, ek sukkel steeds om ordentlik te sien.” Hy vroetel met die What-would-Jesus-do?-armbandjie. “Dis of ek nie lekker kan focus nie.” Hy knip-knip sy oë en sê ’n hele ruk niks nie. Nog ’n besie “pieng” hom dood teen die buislig bokant. Japie tel weer die sigaret op. “Maar ek’s darem luckier as die swartetjie wat saam met my in die bakkie was.” “Ek’t nie geweet daar was iemand saam met jou in die ongeluk nie.” “’n Swartetjie was saam.” “Wat het hom oorgekom?” vra ek.
“Albei sy oë is moer toe, tjomma.” Japie laat val die sigaret voor hom. “Hy’s nou blind.”
HARTKLOP
Daardie kroegmeisie op Kimberley se baba moet al gebore wees. Wat is haar naam nou weer? Tokkie? Driekie? Riekie? Eensklaps is ek nie seker nie. Ek is mos maar knaend op die langpad en kry aanhoudend met nuwe kroegmeisies te doen: Charmaine op Ventersdorp, Tasha op Upington, Zoë op Kroonstad. Toeks op Beaufort-Wes, Mercia op Keetmanshoop. (Daardie blonde kroegmeisie met die neusring in die hotel op Van Zylsrus se naam het ek ook vergeet.) Dis nie dat ek my dae in kroeë omsit nie. Maar die kroeg is een van die eerste plekke waar ek stilhou wanneer ek op ’n vreemde plek kom. Dis waar jy hoor wat regtig op ’n dorp gebeur. Wie baklei met wie, wie vry met wie, wie het ’n interessante storie om te vertel. Buitendien, ná ’n lang dag alleen op die pad wil ek nie my biertjie alleen nuttig nie. Dan wil ek ’n slag stemme om my hoor. Nie dat ek ooit doelbewus geselskap soek nie. Ek sit meestal op my eie in die hoek, sorteer dinge in my kop uit en kyk hoe die manne om die kroegmeisie se aandag meeding. In ’n kroeg is niemand immuun teen menslike kontak nie. Dit is maar hoe dit werk. Die een of ander tyd sal ’n ou jou vir ’n aansteker of ’n sigaret vra. Of iemand wil weet of die bakkie voor die deur joune is, want die ligte brand nog. Of een sal ’n grap vertel en as jy lag, sal hy nader stap en homself voorstel. Met die kroegmeisie sal jy uiteraard altyd kontak hê, al is dit net bolangs. Soms kan die verhouding tussen jou en die kroegmeisie, wel, intiem raak, op allerhande maniere. Om ’n kroegmeisie te wees, is bepaald nie ’n maklike werk nie. Ek het al gesien hoe omgekrap ou Japie van die garage in die Ventersdorp Hotel kan raak as Charmaine per ongeluk sy brandewyn in ’n lang glas skink. Japie drink nie uit ’n lang glas nie. Japie drink net uit ’n kort glas, ’n goblet.
Lampies van die slaghuis, weer, wil net een ysblokkie in sy wodka hê – net een, nie twee of drie of meer nie. En daardie een blokkie moet eers ná die wodka in die glas gegooi word, nie voor nie. Ek het ook al gesien hoe gaan gee Charmaine vir ’n boer van die distrik se twee boerboele agter op sy bakkie in ’n ysbak water omdat die bakkie voor die kroeg in die bloedige son staan en sy die boerboele jammer kry. En ja, natuurlik is daar gedurig mans wat by Charmaine aanlê. Maar sy is ’n ervare kroegmeisie, Charmaine. Sy weet hoe om sulke amoreuse aanslae af te weer. Party ander kroegmeisies weet nie altyd hoe nie – veral die jonges. Deur die jare het ek baie kroegmeisies se geleidelike ontnugtering oor dinge sit en bekyk. Hulle kom gewoonlik jonk en onervare op die dorp aan en trek by een van die hotel se agterste kamers in, met ’n eie verekombers en teddiebeer op die bed, ’n haardroër op die spieëlkas, en Solly Ozrovech se Bybeldagboek op die bedkassie. Dikwels hoop hulle om ’n ryk, jong boer of die nuwe, jong prokureur te ontmoet, verlief te raak en met hom te trou. Of iets so romanties. Ander vertel jou weer hulle werk eintlik net op hierdie godverlate dorpie omdat hulle geld bymekaar maak om Londen toe te gaan, of hulle spaar vir ’n vliegtuigkaartjie na Miami in Amerika waar hulle op ’n luukse-asierskip in die Karibiese See wil gaan werk. En dan, ’n paar maande of ’n jaar later, kom jy weer op daardie dorpie en jy stap by daardie kroeg in en dan is sy nog nie in Londen of op ’n skip op die Karibiese See nie. Dan staan sy steeds daar en skink brandewyn en Coke vir die ooms. En kyk jy mooi na haar, sien jy die tekens van ontnugtering: die donker kringe onder die oë, die kortgekoude naels, die kneusplekke op die arm. Maar nou veralgemeen ek. Alle kroegmeisies is nie slagoffers nie. Inteendeel, party is sielkundige raadgewers en biegmoeders – die biegmoeders van die verlate vlaktes. En in ’n sekere sin respekteer ek hul raad meer as sielkundiges s’n, want baie van hulle het die lewe se skerp kant al ervaar, anders as baie sielkundiges. Lucky van Captain Paul’s Pub naby my huis in Pretoria het my al deur twee liefdesteleurstellings begelei met goeie raad – en wel, laat in die aand het ek darem ’n tequilatjie op die huis ook gekry.
Lucky het my ook een aand die getatoeëerde roos op haar rug gewys wat sy gekry het toe sy as jong meisie saam met haar boyfriend, ’n ou wat Kirbystofsuiers verkoop het, weggeloop het Durban toe. Baie kroegmeisies het in die een of ander stadium van hul lewe weggeloop Durban toe. Baie kroegmeisies was ook eens op ’n tyd verloof, maar kort voor die troue het dinge skeefgeloop. Die hotel op Vryheid se kroegmeisie het weer ’n ander probleem. Haar naam is Rina Hugo. “Omdat my naam Rina Hugo is, dink almal ek moet kan sing en alles van musiek af weet. Ek wens ek het ’n rand gehad vir elke man wat al laat in die aand vir my gesê het: ‘Sing bietjie vir ons iets, Rina. Toe, sing vir ons iets’.” Daardie kroegmeisie in Kimberley was een van die jong ontnugterdes. Dit was al ná agt die aand toe ek daar instap. Ek was op pad Karoo toe en was heeldag aan die ry. Dit was nog een van hierdie regte ou kroeë met die houte teen die mure, ’n verslete pyltjiebord, en ’n waaier met breë wit arms teen die dak. Maar dis nie wat ek eerste opgemerk het nie. Toe ek daardie swaaideurtjies oopstoot, merk ek dadelik die kroegmeisie is verwagtend – swaar verwagtend. “Naand,” sê ek en hys my tot op die stoeltjie naaste aan die pyltjiebord. lewers uit ’n luidspreker het ’n Don Williams-liedjie weerklink, oor ’n cowboy wat in sy liefde verlaat is, terwyl sy waggel-waggel nader stap en voor my kom staan in so ’n los jurk met ’n prent van Mickey Mouse daarop. Ek het ’n bier bestel. Ek was die enigste een by die toonbank. Sy het die bier voor my kom neersit en weer op haar stoeltjie skuins oorkant my gaan sit. Sy was besig om ’n brief te skryf op ’n skryfblok met pienk blaaie. Kort-kort het sy aan ’n sigaret getrek. Ek het my bier gedrink en gekyk na die rye-rye kepse wat aan die balk bokant ons koppe hang. Dit is vreemd, hierdie gewoonte van mense om iets van hulle in ’n kroeg agter te laat: kepse, visitekaartjies, T-hemde, selfs onderklere. Ek was ook al in drie kroeë op drie verskillende dorpe waar iemand teen die muur geskryf het: I love Piet Pieterse. Was dit Piet Pieterse en ’n geliefde wat saam van kroeg na kroeg getoer het? Of was dit ’n voormalige geliefde wat op soek was na Piet en ’n boodskap vir hom wou laat? Ek het later nog ’n bier by die swanger kroegmeisie bestel. Sy het een gebring en
verder aan haar brief gaan skryf – wel, nie veel verder nie. Voor ek met my tweede bier klaar was, het sy daardie pienk vel uit die skryfblok geskeur en dit opgefrommel. Sy was korterig en blond, met ’n afgeremde kyk in die oë. Wil sy nie ’n koeldrank hê nie? het ek gevra. Sy wou nie. Sy het die paar vuil glase in die wasbakkie agter die toonbank gaan was. Buite in die straat het nie meer motors gery nie, iewers het ’n hond geblaf en kort-kort het nuwe ys in die ysmasjien langs die koeldrankkas geklater. Ek het my bier gedrink en gewens ek kon weer die klank hoor van treine wat diep in die nag shunt. Soms gebeur dinge met ’n mens wat jy in stadige aksie onthou: Die kroegmeisie het van die wasbak af teruggetree. Albei haar hande het na haar uitgeswelde maag gegryp. “Hy’t geskop!” het sy geroep. “Hy’t geskop!” “Wat het geskop?” het ek gevra. “Die kind – ek’t die kind nou net voel skop.” Sy het albei haar hande op haar maag gedruk. Ek het regop gekom. “Is dit seer?” “Nee, dis amazing.” Sy het oor haar maag gevryf en sy het geglimlag. “Wil jy voel?” Sy het voor my kom staan. “Wil jy voel, hè?” Ek het my bier eenkant geskuif en met my hande oop oor die toonbank geleun. Wat was haar naam nou weer? Tokkie? Driekie? Riekie? Ek het skoon vergeet.
DIE TITEL WINK
Stefanie wil vanjaar vir die Mevrou Suid-Afrika-wedstryd inskryf. Eintlik wou sy twee jaar gelede al inskryf, maar sy is bly sy het nie, want sy dink nie sy was toe al gereed vir die ontsettende eise wat ’n Mevrou Suid-Afrikawedstryd aan mens stel nie. Hierdie laaste ruk het sy ontsettend as mens gegroei en geestelik verdiep, ontsettend. Sy het ook 8 kilogram verloor vandat sy ’n personal trainer gekry het en Pilates-klasse bywoon. Sy het ook maar die R500 betaal en na Oprah in Sandton gaan luister toe dié onlangs hier was. Oprah is vir haar ’n ontsettende groot inspirasie. Dit was absoluut amazing om haar in lewende lywe te sien. Sy het ook een van Kallie en Monique Strydom se motiveringspraatjies bygewoon – en dit was absoluut amazing. Maar wat haar veral ontsettend diep geraak en geestelik ontsettend laat verdiep het, was toe Gerrie haar man vroeg in Desember die hartklepvervanging gehad het. Sy’t net besef hoe ontsettend broos die ou lewe is toe sy Gerrie daar in intensief in die Pretoria-Oos-hospitaal sien lê met sy lyf vol pype, hopeloos oorstres op die ouderdom van vyf en veertig. En toe tref die tsoenami boonop kort daarna Indonesië. Was dit nie verskriklik nie? Die ontsettende ellende en ontsettende lyding wat dit veroorsaak het, shame. As Stefanie nie na die Fancourt-bal op George toe moes gaan nie, sou sy net ná Kersfees beslis op ’n vliegtuig Indonesië toe geklim het om daar te gaan help. Op haar eie koste. Of liewer, Gerrie sou betaal het, want sy is tans by te veel liefdadigheidsprojekte en ander projekte betrokke om voltyds te kan werk. Maar ’n invite na die Fancourt-bal kan jy nie ignoreer nie, want almal wat iemand is, is daar: Edith, Johann Rupert, Ernie, en wat is daai outjie wat Idols gewen het se naam nou weer? Anyway, hy was ook daar. Nie dat Stefanie van sulke
geleenthede hou nie, sy gaan net soontoe om te network en geld in die hande te probeer kry vir haar projekte. Een van die projekte waarby sy betrokke is, is in Pretoria se arm voorstede waar hulle antibiotiese salf uitdeel vir kinders wat omlope het, shame. Omlope is ’n roosagtige veluitslag wat veral arm mense kry wat nie altyd in die skoonste omstandighede moet oorleef nie, shame. Daarom deel hulle nou die salf uit, want Stefanie het ’n ding oor omlope. Toe sy sewe jaar oud was, het sy twee omlope op haar arm gekry en sy sal nooit vergeet hoe die kinders by die skool haar daaroor gespot het nie, die absolute, absolute, ontsettende trauma daarvan. Hulle hoef darem nie al die salf vir die kinders self te koop nie. Hulle het borge gekry. Deesdae kan jy maar vergeet om sonder borge liefdadigheidswerk te doen. Alle getroude vroue bo een en twintig mag vir die Mevrou Suid-Afrika-wedstryd inskryf. Daar is net een voorwaarde: Jy moet as ’n vrou gebore wees. Vrouens wat eers mans was, mag nie deelneem nie. Stefanie wil net nog so 2 kilo’s verloor voor sy inskryf. Sy is ook op Fit for Life, en Simon Rademan – is hy nie amazing nie? – gaan vir haar ’n paar stunning goed maak. Maar die Mevrou Suid-Afrika-wedstryd gaan nie oor uiterlike skoonheid nie. Dit gaan oor die innerlike, jou sielskrag en afgerondheid. Sy moet nog net met Gerrie praat, want dring sy deur na die finale ronde, moet sy R1 000 betaal. Jy moet ook ’n verdere R3 500 betaal vir jou blyplek en kos tydens die beoordeling. Elke finalis moet ook R10 000 se advertensies verkoop vir die Mevrou Suid-Afrika-jaarboek. Saam met jou uitrustings kan dit jou maklik R60 000 kos om aan die Mevrou Suid-Afrika-wedstryd deel te neem. Maar Gerrie sal darem nie als hoef te betaal nie. Freek, Gerrie se vriend wat die bande- en exhaust-plek in Lynnwoodweg het, het klaar gesê hy sal haar help borg, mits sy gratis vir een van sy brosjures sal pose as sy die titel wen. Maar Stefanie dink nog daaroor of sy vir ’n bande- en exhaust-brosjure sal pose, want die Mevrou Suid-Afrika-titel is nie cheap nie. Dis glad nie cheap nie.
QUO VADIS?
Ek is nog nooit gevra om by die Afrikanerbond aan te sluit nie. Ek behoort nie aan die FAK, die Rapportryers, Praag of die Pretoriase Wyngilde nie. My een oupa was ’n motorwerktuigkundige en die ander ’n blokman, en ek vermoed my gene is nie suiwer blank nie. Ek het al saam met my oom Ys in sy Cortina XR3 Ellispark toe gery, waar ons voor die wedstryd wors op sy gasbraaier op die sypaadjie gebraai het terwyl ons na ’n Leon Schuster-CD luister en brandewyn en Cola Light uit blikbekers drink. Ek was al by ’n show van Tommy Dell in die Maders Hotel, het al op Margate vakansie gehou, en die eerste keer toe ek ’n meisie kaal gesien het, was ek baie teleurgesteld omdat sy nie sulke swart sterretjies op haar tieties gehad het soos die meisies in die Scope nie. Ek ken Martin Pols, alias Mark Condor, al jare en wou lank gelede eenkeer by hom geld leen om vir my ’n stel gewigte te koop sodat ek Reg Park se spierboukursus kon volg. In 1994 het my pa R4 700 se Toppers en Smash en suiker en jellie en rys en mieliemeel gekoop omdat hy bang was daar gaan ’n oorlog uitbreek ná ons eerste algemene verkiesing. My oupa het my ook voor die verkiesing gebel en gevra of ek ’n goeie tang in my huis het. “Om wat mee te doen, Oupa?” “Om brandende gordyne van die grond af mee op te tel.” My naam is nie op die waglys vir die nuwe Volvo nie en twee jaar gelede het ’n Blou Bul-ondersteuner my buite Loftus Versfeld aangerand. Ek het al dennebolle met silwerverf help spuit as versiering vir iemand se troue
en ek het ook al ’n gehekelde oortreksel vir ’n toiletsitplek op ’n kerkbasaar gekoop. Eenkeer het ek saam met ’n bekende Afrikaanse filosoof in ’n hysbak gery maar ek was te bang om met hom te gesels of ’n diskoers met hom te voer want ek weet nie so mooi wat die postmodernisme is nie. (Is dié dalk ’n postmoderne storie?) Ek skreeu lelike goed wanneer Dr. Phil op die TV kom en my blokmanoupa was eenkeer op Dis My Geheim, die TV-program wat in die 1980’s aangebied is deur Cobus Robinson. Op die program het Carel Trichardt, Sybil Coetzee en Alewyn Lee een en twintig vrae gehad om uit te vind wat Oupa doen. Sybil het die eerste vraag gevra: “Sê vir ons, Meneer, werk u in die buitelug?” Toe antwoord Oupa: “Nee, ek’s ’n blokman.” Party mense vertel dit vandag steeds oor, asof dit ’n grap is. Maar dit was nie: Oupa het ná sy Dis My Geheim-blaps kwaai begin drink. Teen my sitkamermuur hang ’n afdruk van Tretchikoff se Sterwende swaan, en ek het ’n tante wat Rothmans rook, cane en water drink, en Niekie van den Berg se program Sê Wie? bel en dan vergeet om haar radio af te skakel. Daardie tante van my se man het boonop eenkeer in die biertuin by die Randse Paasskou vir ’n meisie geskree: “Wys ons jou muis! Toe, wys jou muis!” Ek het al oor ’n CB-radio in ’n kar gepraat en goed gesê soos: “Enige maatjie vir ’n praatjie daar buite? Enige maatjie vir ’n praatjie?” Ek hou van semisoet bokswyn, geniet rugby meer as ballet, het al bier in ’n sjebien gekoop en was al verlief op ’n meisie wat by ’n till in Checkers werk. Ek het ook al ’n Pierre Cardin-pak – ek spreek dit uit as “Peer Kardien” – besit wat 1c gekos het. Of liewer, ek het een pak op ’n special by Coquis-mansuitrusters in Wonderboom-Suid gekoop, toe kry ek die tweede een vir slegs 1c by. Al Debbo is die enigste mens wie se handtekening ek al gevra het en ek sou bewoë geraak het as ek op Jim Reeves se begrafnis kon wees. Die geel Valiant Regal waarmee ons gery het toe ek ’n kind was, het ’n groter invloed gehad op my persepsie van Suid-Afrika as die werke van Nadine
Gordimer, en soms is ek bang al die Chinese in China spring op dieselfde oomblik in die lug en wanneer hulle land, ruk die aarde uit sy wentelbaan. Ek het ’n knaende behoefte om weer die klank te hoor van treine wat laatnag op ’n stasie shunt. Knaend, laataand, sit ek en wens ek kan weer treine hoor wat shunt. Wat maak dit alles my? Mag ek ook maar ’n Afrikaner wees?
DIE BARBIERS VAN MY LEWE
Nou die oggend toe ek by ou Mister Correia instap, toe is hy besig om te pak. Hy het my nie gewaar nie – nie dadelik nie. Hy het by die kas voor die spieël gestaan, besig om ’n paar los goedjies in ’n skoendoos te sit: vyf of ses skêre, ’n paar kamme, ’n rol watte, ’n bottel Vitalis. Ek het gewonder of ek moet nader gaan en hom moet groet en sterkte toewens. Hy was darem vir meer as vyftien jaar my barbier. Dit was onverwags, maar dit was nie heeltemal ’n verrassing nie. Ek het geweet die dag sal kom dat Mister Correia moet sluit, want ek kon lankal sien daar is nie meer baie koppe vir hom om te skeer nie. In die laaste jaar of wat het hy dikwels ledig buite in die son gestaan wanneer ek by sy plek in die middestad gekom het. Soms het hy binne gesit en koerant lees, of Lotto-kaartjies ingevul. Of hy het gedut, met sy kop verlep op sy bors en sy swartraambril uit die 1980’s langs hom op ’n ander stoel. Barbiers soos Mister Correia word al hoe skaarser. Ek praat van barbiers met ’n rooi-en-wit paal voor, ’n ry oneenderse stoele, ’n tafeltjie vol voos tydskrifte: Huisgenoot en Panorama, Vlieënde Springbok – en ’n verdwaalde Scope, waarskynlik sonder die buiteblad en die centrefold. En teen die muur leun ’n besem. En in die lug hang die reuk van allerhande dinge: Johnson & Johnson-babapoeier en Vitalis en Brylcreem en Sunlight-seep. Dikwels speel ’n radio’tjie iewers, en langs die spieël hang ’n foto van Bloubergstrand wat uit ’n ou almanak kom.
Hoe oud is ’n man wanneer jy die eerste keer barbier toe gaan? Ek was so vier, dalk vyf. En dit was nie sommer net vir gaan nie: Op ’n dag kon my ma nie meer my hare met net ’n skêr tem nie, toe sê my pa: “Seun, kom’s gaan na oom Robin toe.”
Dit was ’n reis in die kleine – ’n reis wat die meeste mans vir die grootste deel van hulle lewe minstens een keer per maand aflê. Oom Robin was die haarkapper op Grootfontein, die dorp waar ons toe gewoon het. Hy het ’n wit jassie gedra en in sy bosak was ’n skêr. En voor die spieël in sy plek, in ’n stegie naby Standard Bank, het hierdie tamaai hoë stoel gestaan wat soos ’n tandarts s’n gelyk het. Oom Robin het ’n stuk plank oor die armleunings gesit, toe tel my pa my op en sit my daarop neer. Toe bind oom Robin ’n doek styf om my nek en stap na die kas voor die spieël waarop nog skêre gelê het, en knippers, en ’n messie met ’n dun, blink lem. Ek het begin huil. Maar oom Robin het troos gereed gehad: Suigstokkies – sulke rooies wat in ’n string aan ’n hakie teen die kas gehang het. Pa het vir oom Robin gesê hoe hy my hare moet sny: “Short back and sides.” En wel, van toe af was dit my haarstyl, want wat jy ook al vir oom Robin – en al die barbiers op die ander dorpe waar ek gewoon het – gevra het, is dit wat jy gekry het, met enkele variasies op die tema. Ek is seker maar hopeloos sentimenteel, maar nou die oggend daar in Mister Correia se plek, het ek weer aan die ooms gedink wat my hare gereeld gesny het: oom Robin, oom Koos, oom Johnny. Ooms wat ’n leeftyd op hul voete gestaan het om kinders universiteit toe te stuur, te betaal vir vroue se goiteroperasies, en een keer per jaar op Badplaas gaan vakansie hou het met hul opbrengste. Trotse ooms, met sterk menings oor rugby en landsake. Party (oom Chomp) het ook horlosies herstel, of skêre geslyp (oom Koos), of met avokadopere gesmous (oom Johnny). My verhouding met hierdie ooms het gewissel van respek tot ’n ligte vorm van haat. Wanneer jy so veertien, vyftien jaar oud is, is die short back and sides op ’n dag nie meer vir jou voldoende nie. Dan wil jy soos die Britse popsanger David Bowie lyk, met so ’n wilde middelpaadjie en die hare lekker ver agter in jou nek af. Maar oom Koos, die haarkapper op Naboomspruit waar ons toe gewoon het, het nie ’n idee gehad wie David Bowie is nie. Oom Koos het in sy haarsnyplek langs
Waldorf se kafee na kassette van die country-sanger Tommy Dell geluister – en Tommy Dell het ’n mullet gehad, ’n vag hare hier agter in sy nek af tot in die waai van sy skouers. (Country-sangers, boksers en party ouens wat gehou het van Kawazaki-motorfietse het nogal ’n sagte plek vir die mullet-styl gehad.) Maar ’n mullet was ons net so min as die David Bowie-style beskore. Hoeveel keer het ek nie by oom Koos geskimp dat hy tog net genoeg hare bo-op my kop moet los dat ek my hare Bowie-style kon kam nie? Dan gaan sit jy op daardie hoë stoel, vol verwagtinge, en dan sit jy in die spieël en kyk hoe oom Koos jou hare in die Christelik-Nasionale short back and sides-styl knip terwyl hy vrolik saam met Tommy Dell se weergawe van “Country Roads” fluit. En dan, wanneer oom Koos met jou Bowie-drome klaargespeel het, het hy die ouwêreldse ordentlikheid en grasie gehad om ’n spieël agter jou kop te hou: Sien jy nou, boetman, dis nie Bowie nie, dis short back and sides? Iemand moet nog navorsing doen oor die rol wat seuns se hare in die handhawing van die Ou Orde in Suid-Afrika gespeel het. Party haarkappers – of dit was die gerug op die dorpe waar ek kind was – is regstreeks deur skoolhoofde aangesê hoe om ons hare te sny. Oom Johnny op Nylstroom, die dorp waar ek op hoërskool was, het óf ander instruksies as oom Koos gekry óf hy het sy eie kreatiewe interpretasie van die short back and sides gehad. Oom Johnny was baie lief vir gesels, veral oor sy Ford Fairmont GT, en hoe hy naweke in ’n rekordtyd daarmee Pretoria toe jaag om te gaan rugby kyk op Loftus of in die Palms Hotel te gaan dans. Elke haarkapper het mos sy eie gewoontetjies. Party sal altyd eers jou regterkant sny, ander begin weer agter by die nek. Oom Johnny het altyd so in die lug geknip-knip-knip voor hy begin het, knip-knip-knip, amper asof hy by ’n verkeerslig staan in daardie Fairmont GT en die enjin rev, gereed om iemand te dice. Dan het hy gevra: “Hoe wil jy hom hê, boetman?” Dan het jy jou arm skugter onder die doek om jou skouers uitgehaal en beduie: “Oom hoef nie eintlik bo te sny nie. Oom kan eintlik maar net bietjie hier om die ore trim.” Dan het oom Johnny weggespring en met die spoed van ’n Fairmont GT in ’n halfmaan met daardie skêr – en later ’n knipper – om jou kop beweeg terwyl jy in die spieël sit en kyk hoe verander jy van ’n potensiële David Bowie na ’n jong
Kaptein Caprivi. Teen die tyd dat oom Johnny jou nek met poeier afgekwas het, het dit kompleet gelyk asof iemand ’n piepiepot op jou kop neergesit en al die hare wat uitsteek, teerpadstomp afgeskeer het. Die pispotstyl – dis wat ons oom Johnny se styl genoem het.
Sal ek ook vertel van daardie ander oom op Voortrekkerhoogte wat ons hare op die tweede dag van ons basiese militêre opleiding in ’83 gesny het? Of nee, hy was nie regtig ’n oom nie, hy was net hierdie brommende man wat nie regtig jou hare gesny het nie. Hy het dit uitgeroei, tot op jou kopvel, asof dit ’n land vol kakiebos is. Sal ek van hom vertel? Ek sal nie. Ek onthou wel een ding van hom: Op sy voorarm was ’n hart getatoeëer, met ’n dolk wat daardeur steek.
Tog, iewers in jou lewe kom jy agter daar is belangriker dinge as jou haarstyl. Dan wil jy net op ’n Vrydagmiddag of ’n Saterdagoggend in jou motor klim en daardie kort reis na ’n barbier soos Mister Correia onderneem en jou hare laat knip, sonder enige frilletjies en fieterjasies. Maar barbiers soos Mister Correia raak al hoe skaarser. Let maar op. Al hoe meer mans, veral die jonges, gaan deesdae salonne toe – salonne en boetieks: unisex-plekke met foto’s van David Beckham en Tom Cruise teen die muur, waar jy vir jou ’n haarstyl by ’n meisie met swart toonnaels of ’n outjie met die naam van Wayne uit ’n katalogus kan bestel, asof dit ’n nuwe persoonlikheid is. En ja, as ek nou jonk was, sou ek miskien self na sulke plekke toe gegaan het. Elke tydvak het sy eie behoeftes. Mister Correia het nou die oggend nogal gespook om die plaatjie langs die spieël met sy naam op van die muur af los te kry. Hy moes dit later met ’n skêr losbreek. Ek het hom stil van die deur af dopgehou.
Op die vloer het die kas, een van hierdie ou handmodelle met ’n blikarm aan die kant, al in ’n kartondoos gestaan. Alles wat ek nou hier sien, het ek vir myself gesê, moet ek onthou: tot die canned fruit-bottel met die bolletjies watte op die kas, die Swipe-spuitbottel langsaan, en daardie Bloubergstrand-prent teen die muur. Mister Correia het my later agter hom gewaar, want hy het omgedraai. Hy het niks gesê nie. Nie dadelik nie. Hy het na die kas voor die spieël gestap en sy hande afgevee aan die wit handdoekie wat aan ’n hakie gehang het, stadig, sorgsaam, soos hy al die jare ook my hare geknip het. Toe het hy weer voor my kom staan. “I’m going,” het hy gesê en sy hand na my toe uitgesteek. Toe besef ek: Vir die eerste keer in meer as vyftien jaar sien ek en Mister Correia mekaar nie in die spieël asof ons ’n raaisel vir mekaar is nie. Ons kyk mekaar reguit in die oë. “Go well, Sir.” Ek het sy hand geskud. “Thanks for everything.” Nou is ek op soek na ’n ander barbier. Ek is al bles, maar die hare wat ek oorhet, laat sny ek ná al die jare steeds short back and sides.
BEGRAFNISBRIEF
Dit het die Here van Hemel en aarde behaag om van ons weg te neem, in die ouderdom van 48 jaar en 3 maande (so sê die ID-boek wat in sy agtersak gevind is), ons geliefde Johannes Cornelius Brayshaw, ook bekend as Dolly. Vir party was hy ’n vriend, vir ander dikwels ’n hindernis – veral wanneer hy by die verkeerslig in Schoemanstraat gestaan het met sy bedelplakkaat. Of wanneer hy jou naby die drankwinkel in Hildastraat voorgekeer en gevra het vir ’n tweerandjie. Of wanneer hy kamma karwag in Burnettstraat was. Soms het hy gepraat van ’n ma in ’n ouetehuis op Uitenhage, ’n broer in Engeland, en ’n jong bruid lank gelede op Welkom. Saans het hy meestal onder ’n brug oor die Apiesrivier naby Loftus Versfeld geslaap en bedags was hy maar in Hatfield en Arcadia doenig met sy plakkaat en sy bedelhand. Hansa was sy gunstelingbier, maar hy het ook Black Label, Castle, Amstel, Windhoek, Klipdrift, Bell’s, Rebel-no-name, Prince Charlie, Smirnoff, Russian Bear, Lieberstein, OBS, en Cool Aid gemeng met afgetrekte brandspiritus gedrink. Winston was sy gunstelingsigaret, en Neil Diamond sy gunstelingsanger. Stokperdjies het hy nie eintlik gehad nie. Hy het wel daarvan gehou om in die son in Springbokpark naby die Dros te sit, en wanneer daar ’n mooi meisie verbykom, het hy graag uitgeroep: “Heito-piteito, buk of ek byt jou!” Hy kon nie in die laaste algemene verkiesing stem nie omdat hy ’n ou ID-boek gehad het. Maar as hy kon stem, het hy gesê, sou hy vir die DP gestem het. Hy het die Blou Bulle ondersteun en ’n Golf GTI as ’n beter kar as ’n Opel Astra beskou. Maar as hy kon, het hy altyd gesê, sou hy vir hom ’n Volvo gekoop het – die S40- sedan, ’n metallic silver een. Hy wou oudpresident Nelson Mandela graag ontmoet en beweer hy het eenkeer president Lucas Mangope se Mercedes in Hatfield opgepas.
Hy het eenkeer R1 200 in ’n pick six op Greyville gewen, maar hy kon nie onthou wat hy met die geld gedoen het nie. Sophia Loren was steeds vir hom die mooiste vrou in die wêreld, hoewel hy baie van Patricia Lewis ook gehou het. Die lekkerste ete ooit, só het hy soms vertel, was ’n seafood platter in die Mike’s Kitchen by die Floridameer in Johannesburg. In 1989. Hy het elke dag sy tande geborsel met ’n tandeborsel wat hy gebêre het in die ou Olympic kitbag wat hy saam met hom gedra het. In die kitbag was onder meer ook ’n transistorradio, ’n naelknipper, ’n buisie Deep Heat, en ’n opgevoude foto van Bloubergstrand met Tafelberg in die agtergrond. Hy het die laaste paar maande knaend van maagpyn gekla, daarom het niemand wat hom geken het, gedink dis vreemd toe hy so twee maande gelede op ’n sypaadjie ineenstort nie. ’n Koerantverkopertjie het die ambulans van ’n tiekieboks af gebel. Maar toe hulle met hom by die hospitaal kom, was dit reeds te laat. Niemand hoef blomme te stuur, skenkings aan liefdadigheid te maak nie, of met hul motors se hoofligte aangeskakel in die begrafnisstoet te ry nie, want daar was nie ’n begrafnis nie. Nadat hy, Dolly Brayshaw, lank onopgeëis in die lykshuis gelê het, is hy verlede week een oggend in ’n armlastige graf êrens in Pretoria-Wes begrawe. Die Here het gegee, die Here het geneem – Geloofd sy die Naam van die Here.
SONDAGRITUEEL
Op ’n Sondagoggend het jy jou kerkpak aangetrek en saam met jou pa en ma na die moederkerk in die middeldorp gery terwyl die Mormoonse Tabernakelkoor in Fanie Smit se radioprogram Alle volke loof die Here sing. By die kerk het jou pa langs oom Hansie, die koster, se blou Chev 3.8 onder ’n seringboom stilgehou. Op die grasperk voor die konsistorie het ’n paar ouderlinge en diakens – uiteraard almal mans – in ’n kring gestaan en oor die vorige dag se rugby gesels. Op party se lapelle het SAL-springbokkies geblink, op ander s’n was Rapportryerwapentjies wat soos ’n donker ogie vir jou geloer het. Jy en jou ma het altyd by die linkerkantste agterdeur ingegaan en altyd op die tweede bank van agter gesit, met jul weerkaatsing in die moederskamer se ruit agter julle. Op die galery het Kootjie, die orrelis, met ’n fladdering van sy hande reggeskuif voor die orrel terwyl die mense inkom: die egpaar Viljoen en hulle vier dogters, dan tant Hannie en haar seun Wimpie op sy eerste pas in sy militêre uniform, dan oom Dowe Andries met tant Sannie ’n ent agter hom. Oom Andries en tant Sannie het altyd in die derde bank van voor plaasgeneem, want dis waar die gehoorapparate vir die hardhorendes was: sulke klein toestelletjies, omtrent so groot soos ’n Matchbox-karretjie, met ’n luisterproppie aan wat jy in jou oor gedruk het. Elkeen het, sodra hy of sy gaan sit het, eers ’n stil gebed gedoen, en dan het party ’n rolletjie pepermente of ’n pakkie Sen-Sen of ’n sakdoek te voorskyn gehaal, in hul Bybels rondgeblaai, of gewyd voor hulle uitgestaar na die preekstoel met die purperkleurige kleedjie waarop staan So spreek die Here. Ná die laaste gelui het die deure weerskante van die kansel oopgeswaai en het die diakens en die ouderlinge uitgestap, al agter hul wit dasse aan, met Dominee heel voor in sy toga. Eers het Dominee die afkondigings gedoen: Biduur Woensdagaand om 7,
Vrouediens Donderdag, ’n skyfievertoning Vrydagaand in die kerksaal deur Niel en Peggy Verwey wat in Japan sendingwerk doen. Daar is net Psalms en Gesange gesing, en oom Andries se basstem was altyd so twee note agter die orrel. Ná Dominee die Tien Gebooie gelees het, het almal gedemp ’n gedeelte van die Heidelbergse Kategismus agter hom aan gesê, terwyl ’n swaeltjie by een van die vensters invlieg en laag oor almal se koppe swiep. Net voor Dominee se preek het Kootjie voor die orrel opgestaan en by oom Cedric, sy vriend, gaan sit. (Hulle het saam in die Spaanse huis in 4de Straat gewoon, dié twee, en het vakansies soms seuntjies uit die weeshuis Margate toe geneem.) Dominee se preke het kalm begin, maar gou het hy die Ou-Testamentiese vuur en swael oor jou uitgeroep en dit laat klink asof God ’n nukkerige, onvoorspelbare ou man met ’n baard is wat op ’n troon êrens bokant die wolke sit en ons dophou, gereed om op die een of ander manier wraak te neem. Die laaste vyf minute van die preek, met die swaeltjie wat steeds om en om bokant ons koppe draai, het Dominee die reddende krag van die liefde aan ons voorgehou as ’n soort troosprys, terwyl ’n kleintjie in die moederskamer skree, tant Sannie solank haar dankofferkoevertjie uit haar handsak haal en Johnny Virtue in sy opgezoepte Mazda Capella in die straat voor die kerk verbyjaag. Daarna het Dominee vir die redding van ons siele gebid. Dan is die kollekte opgeneem, en wanneer die diaken met die houtbordjie met die groen viltsirkel binne-in langs ons kom staan het, het jy Old Spice geruik. Dan is ’n laaste lofgesang gesing. Dan het Dominee die seën oor ons uitgespreek terwyl my ma vinnig op haar horlosie kyk, bekommerd oor die skaapboud in die oond. Dan het julle weer huis toe gegaan.
KERSSPROKIE
Buite die kafee op Magaliesburg kom staan die man by sy motor se venster. “Ek’s Freddie, Meneer,” sê die man. “Meneer is nie dalk op pad Derby toe nie? Ek soek ’n geleentheid.” Hy kyk na Freddie: In ’n ou, grys pak, ’n roomkleurige hemp en bont das, amper soos ’n kerkraadslid uit die 1970’s, staan hy daar. “Nou wat wil jy op Derby gaan doen, Freddie?” “Ek moet daar loop trompet speel, Meneer.” Toe sien hy dit: In Freddie se hand is ’n swart tassie. Het hy nie al met genoeg sulkes in sy lewe te doen gehad nie? wonder hy terwyl hy oorleun en die motor se linkerdeur oopsluit. ’n Paar oomblikke later skuif Freddie langs hom in met die tassie op sy skoot. “Vir watse geleentheid gaan jy speel, Freddie?” “By ’n Kerssangdiens, Meneer.” Hy vra Freddie nie verder uit nie. Hy draai die radio harder en kyk stip voor hom in die pad terwyl hulle al hoe verder wes ry. Hy het al te veel hard luck-stories in sy lewe gehoor. Dit is al donker toe hulle in die dorpie kom. Die motor se ligte vee oor die kerkie in die hoofstraat toe hy voor die hek stilhou. Daar staan so twintig, dertig motors. Die diens is al aan die gang, want deur die oopte kom die klank van ’n aamborstige orrel en ’n paar stemme wat trekkerig saamsing: “’n Kindjie is gebore, in stille Bethlehem ...” Freddie bedank hom en maak die deur oop. “Meneer is welkom om in te kom,” sê hy en verdwyn haastig in die donker met sy tassie. Hy skakel die motor se ligte af maar klim nie uit nie. Hy hoef nie vanaand al
iewers te wees nie. Hy luister na die trekkerige stemme en probeer dink wanneer laas hy in ’n kerk was. Dit was met sy ma se begrafnis – vier jaar gelede. ’n Hele ruk luister hy na daardie bekende, onbekende stemme en druk toe die motordeur oop. Hy klim uit en stap stadig deur die donker. Iewers moet ’n sipresboom wees, want hy ruik die soet geur daarvan. By die kerkie se voordeur talm hy ’n oomblik. Onder die buitelig lê dooie besies en motte en torre op die trap. In die portaal op ’n tafeltjie is ’n paar Gesangeboeke. Hy neem een. In die heel agterste bank sit ’n tante met ’n Bybel op haar skoot en ’n bol sneesdoekies in haar roksmou. Hy gaan sit ’n ent van haar af, laat sak sy kop en knyp sy oë toe. Maar hy sukkel om te bid. By die kateder voor in die kerkie staan ’n bejaarde predikant in ’n toga en lees van die stal en die Wyse Manne en die Ster; langs die kateder is ’n mandjie met ’n winkelpop in, toegedraai in ’n wit doek, en daarby sit ’n seuntjie en ’n meisietjie in die Wes-Transvaal se weergawe van Bybelse uitrustings: kopdoeke en japonne. Josef en Maria. Toe die predikant klaar gelees het, staan die gemeente op en sing nog ’n Hallelujalied agter die aamborstige orrel aan: “Kom herwaarts getroues, vrolik seëvierend ...” Daarna kom vier seuns uit die konsistorie, ook in japonne – groenes. Elkeen met ’n riet in die hand en ’n army-boshoed op die kop. Die herders. Hulle stap tot by Josef en Maria en die pop in die mandjie tot ’n klomp engele by die konsistoriedeur uitgetrippel kom in wit rokkies en kartonvlerke; en hulle roep skril: “Ere aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae!” Daarna verskyn Freddie met sy trompet en speel “Stille Nag”, en toe dra ’n swaar vrou in ’n frilletjiesrok ’n gedig voor: “Maria, Moeder van Nasaret ...” Die hele tyd sit hy daar in die agterste bank na alles en kyk: Freddie met die bont 1970’s-das, die engele met die skewe vlerke, die sweetdruppels teen die swaar vrou se slape, die herders met die boshoede, die ou predikant wat elke keer moeisaam orent gekom en nog ’n gedeelte uit Lukas voorlees. Opeens voel hy iemand aan hom raak. Dit is die tante langs hom.
In haar hand is ’n sneesdoekie en sy hou dit na hom toe uit.
SIN CITY
Op ’n dag besluit Pa dis hoog tyd dat ons ook Sun City sien. Hy het die geel Valiant, wat toe al meer as 100 000 kilometer op die klok gehad het, laat was, Ma en Ouma het hul hare laat doen, en Oupa het lank oor ’n Totalpadkaart op die kombuistafel geleun en sy vinger oor die blou en rooi aartjies laat gly, op soek na die kortste pad soontoe. Dit was in 1980, as ek reg onthou, ’n jaar nadat Sun City amptelik geopen het. Dis moeilik om te glo, ek weet; maar in ’80 was ’n plek soos Sun City byna ondenkbaar in Suid-Afrika. Wat was die naaste wat ons daaraan gehad het? Die Beach Hotel in Durban? Die Staatsteater in Pretoria? Die Bulsaal in Bloemfontein? Of wel, Sun City was nie amptelik in Suid-Afrika nie, dit was in Bophuthatswana, ’n onafhanklike staat met sy eie seëls, weermag en president. Tog, onverklaarbaar, het jy nie ’n paspoort nodig gehad om soontoe te gaan nie. Jy het meestal nie eens geweet wanneer jy die grens tussen Suid-Afrika en Bophuthatswana oorsteek nie. Miskien was dit een van die aantrekkingskragte van Sun City in daardie jare: Dit het gevoel asof jy die een of ander ver, eksotiese plek besoek wanneer jy soontoe gaan, ’n plek met palmbome en blink Las Vegas-liggies waar mense drankies drink met sulke sambreeltjies in – een van daardie plekke wat mens altyd in die program Die Plesierboot op TV gesien het. Maar daardie oggend in die Valiant het dit nie juis gevoel asof ons op ’n plesierboot is nie. Oral was boerbokke en donkies in die pad, en hoe nader ons aan Sun City gekom het, hoe kaler en yler was die veld. Eers wanneer jy by Sun City se hoë hekke ingery het, het dit eksoties begin lyk. Sin City – dis wat ons Sun City destyds genoem het. En ja, dit was seker ’n ander rede waarom dit toe maklik Suid-Afrika se gewildste toeristeplek was: Allerhande dinge wat onwettig in die land was, is daar toegelaat. Jy kon daar
dobbel en drank koop en swem op Sondae. Daar was ook sogenaamde extravaganzas met halfkaal dansers. Nie dat Pa-hulle en honderde ander wat toe Sun City besoek het, sulke dinge wou gaan doen nie. Hulle wou soos goeie Calviniste slegs na als gaan kyk – net kyk. Die son het al hoog bokant die Pilanesberg gebrand toe ons tussen die ander karre se blinkende dakke in Sun City se parkeerterrein stilhou. Die plek het toe anders gelyk as nou: net die ou hotel, die Cabanas, die Superbowl en die gholfbaan was daar. Pa het Ouma uit die Valiant gehelp want Ouma het toe al die beroerte gehad. Sy was darem al weer sterk genoeg om te kan stap. Pa was nog altyd ’n man met goeie maniere. Hy het die vorige dag selfs Sun City gebel en gevra of ons welkom is om soontoe te kom. “We will be four people – three grown-ups and one child,” het hy in sy beste Engels vir die een aan die ander kant van die telefoon gesê. “No, no ... We don’t want to come and sleep there. We just want to please look around and watch things, and maybe eat a little something ... Yes ... Yes ...” Ons het eers ’n ruk daar by die Valiant in die parkeerterrein gestaan en na als rondom ons gekyk: die Superbowl se koepeldak, die palmbome, die spuitfonteine. Toe het Oupa effe huiwerig gesê: “Wel, kom’s staan maar nader, mense.” Ons is eers na die Superbowl, maar die deure was gesluit. Oral was plakkate waarop die Sun City Extravaganza geadverteer is: Meisies in sulke klein blink broekies, skoene met hoë hakke, sulke vere, en niks bo nie. (Hulle het nie eens swart sterretjies op daai plekke gehad soos die meisies in die Scope nie.) “Og, jha-a,” het Oupa gesug en my nogal hardhandig voor hom uit gestoot na ’n plek toe waar mens koeldrank kon koop. Daar het hy die volgende skok gekry: ’n Coke het R5 gekos, wat destyds baie duur was. Dit is vreemd: Baie mense wat Sun City toe besoek het, het wanneer hulle terugkom, jou nie eerste vertel van die sterretjielose meisies of die dobbelmasjiene nie. Hulle het vir jou gesê: “Jy betaal R5 vir ’n Coke daar. Kan jy dit glo?”
Met ons R5-Cokes in die hand het ons na die hotel en casino gestap. “En om te dink,” het Pa gesê, “twee jaar gelede was hier niks.” Dit het Pa en Oupa kwaai beïndruk: die feit dat Sol Kerzner glo op ’n dag in ’n helikopter oor die gebied gevlieg, na ’n kaal stuk aarde beduie en gesê het: “Net daar wil ek ’n casino bou.” En toe, ’n jaar of wat later, staan Sun City daar. Ek, aan die ander kant, was deur Sol beïndruk omdat hy destyds met Anneline Kriel, die gewese Mejuffrou Wêreld, getroud was. Hoe kry so ’n kort, oorgewig omie dit reg? het ek gewonder. Ek was vyftien jaar oud, met ’n erge puisieprobleem en allerhande onnoembare fantasieë oor Anneline. Ek het daardie dag oral gekyk of ek haar nie kan sien nie, en toe ons by die hotelkamers verby stap, het ek jaloers gedink: In een van hierdie kamers het Sol al saam met Anneline geslaap. Natuurlik wou Pa-hulle niks van dobbel weet nie. Dobbel was sonde. Dobbel het gesinne opgebreek en mense in die tronk laat beland. Hulle wou slegs na die dobbelmasjiene – die one-armed bandits – gaan kyk. Ons het Ouma op ’n bank in die casino se portaal laat sit en tussen die rye, rye masjiene in gestap. Oupa het voor een gaan staan. Hy het na die hefboom aan die kant gevat asof hy wou bladskud, maar dit dadelik weer gelos, asof dit hom gebrand het. Oral rondom ons was mense wat so talm-talm voor die bandits gestaan het. Baie van die mans het Hawaise hemde gedra. (Is dit toevallig dat Hawaise hemde in Suid-Afrika gewild geraak het in dieselfde tyd as wat Sun City begin het?) Die vroue het hul handsakke onder hul arms vasgeknyp en na die mans gekyk. ’n Hele ruk het hulle so na die masjiene staan en staar – en dan, later, het hulle nes Oupa ’n hand daarna uitgesteek, amper asof hulle kennis wou maak. Dit het nogal soos sonde gevoel om daar tussen die masjiene met die tollende wiele en liggies in die swak verligte casino te staan. Dit was opwindend genoeg om sonde te wees. Kort-kort het ’n klokkie iewers gelui en dan was daar die geklingel van muntstukke. (Ek kon ook net kyk want dit was onwettig vir kinders onder agtien om te dobbel.) Oupa het weer na die bandit se arm gevat, stadig, versigtig. “Ek wil net iets
sien,” het hy gesê, sy hand in sy kakiebroek se geldsakkie gedruk, ’n randstuk uitgehaal, eers links gekyk, toe regs, en toe druk hy die muntstuk in die gleufie en trek die masjien se arm vinnig. ’n Paar oomblikke later toe lui die klokkie en muntstukke klingel tot in die bakkie terwyl Oupa roep: “Hondepatrollie! Wat nou?” Hy het R50 gewen! Dis wat. Toe kry Pa en Ma elkeen ook maar vir hulle ’n masjien, net om te kyk hoe werk hierdie dobbelding. Eers ’n uur later, toe hulle beursies al amper leeg was, het hulle opgehou. Ons het nie baie langer by Sun City gebly nie. Ons het na die swembad gaan kyk (o, hoe het ek nie gewens Anneline is daar nie!), Pa het ’n foto van ons voor die tafel vol poedings in die restaurant geneem en Ma het ’n steggie van die een of ander plant in die tuin gepluk, dit in ’n sneesdoekie toegedraai en in haar handsak gebêre om dit by die huis te gaan plant. (Ma het dit knaend gedoen.) Op pad terug, naby Northam, het Oupa Pa die verkeerde aanwysings gegee en toe, die volgende oomblik, is ons op ’n slegte grondpad tussen ’n klomp sinkhutte. En daar was vuil kinders, en maer honde, en papiere en rommel in die veld. Dit als terwyl Ma haar op die agtersitplek koud waai met ’n sakdoekie en sê: “Nou’s ons in ons heppie kanon in, julle.” Ek onthou nie hoe lank dit ons geneem het om weer op die grootpad te kom nie. Ek onthou net Oupa het gesê as ons iets in daardie plakkerskamp oorkom, sal dit ons straf wees.
PENSIOENDAG
Hy het nie meer gepraat nie. Hy het net op die matras in die hoek van die makuku gelê, sy gesig blink van die sweet. Hy het die hele nag gehoes en gehoes, en toe dit oggend word, het sy hom help aantrek: eers die langbroek, toe die tekkies, toe die hemp wat hy by een van die mense gekry het by wie hy lank terug ’n piece-job gehad het – die hemp met die palmboom en die woorde wat sy nie kon lees nie: Landsdienskamp 1979. Toe is hulle by die deur uit, hy met sy hand op haar skouer, oor die skoongeveegde werf, stadig af in die klipperige straatjie, tussen die ander makuku’s deur. Op die hoek, naby die council se offices, het ’n taxi by hulle stilgehou. Die man van die taxi het agter die stuurwiel uitgeklim en haar gehelp: die bussie se deur was te hoog vir sy swak bene. En toe hulle hom eers op die sitplek gehad het, het hy sommer gaan lê, en weer gehoes en gehoes, terwyl sy langs hom inskuif met die Checkers-sak met sy ID en sy pension-papiere op haar skoot. By die poskantoor in die middestad het die ry mense al by die voordeur uit gestaan, af by die trappe, tot op die sypaadjie. Hulle het agter ingeval, en sy hand het al hoe swaarder op haar skouer gedruk. “Heita, buthie!” het sy na die veiligheidswag by die deur geroep. “Het julle stoele hier?” Die wag het om die hoek verdwyn en met ’n koeldrankkissie teruggekom. Nou kon hy sit, maar nie lank nie, toe vat hy na haar, toe gryp sy hand na haar; en toe kon hy nie meer vanself regop sit nie; toe moes sy agter hom gaan staan sodat hy teen haar kon leun. En elke keer wanneer hulle moes vorentoe skuif, moes sy van die ander mense in die ry vra om haar te help: eers om hom regop te kry, tot op sy voete; dan om die kissie vorentoe te skuif; dan om hom weer te laat sit. Hulle het nader aan die post-office se deur beweeg, en later was hulle by die deur in, tot in ’n groot vertrek vol lig en lawaai. Een muur was ’n toonbank, en agter die toonbank, agter tralies, het ’n man gesit. Die horlosie bokant hom het gewys dis nege-uur. Later was dit tienuur, en later moes sy hom met albei hande regop op die kissie hou, skuif-skuif vorentoe. Toe, oplaas, was hulle voor in die ry. Sy het sy ID en sy pension-papiere uit die Checkers-sak gehaal en dit voor die man op die toonbank neergesit. Die man het snaaks na hulle gekyk: eers na haar, toe na hom voor haar op die kissie, sy kop tussen haar hande gestut. Die man agter die toonbank was nie haastig nie. Hy het tydsaam deur die ID en pension-papiere geblaai, ’n pen opgetel, ’n vorm ingevul, en twee keer met ’n stempel op die vorm gekap. Daarna het hy die
blikkie met die swart inkkussinkie oor die toonbank gestoot waarin hy sy duim moes rol om te sign vir sy pensioen. “Druk nou jou duim hierso, Oupa,” het die man gesê en na die onderkant van die vorm beduie. Hy het nie sy hand gelig nie. Sy het dit namens hom gelig en sy yskoue duim heen en weer in die ink begin rol.
DIE SWART VAN DER MERWES
Ons het hulle vergeet: die swart Van der Merwes. Oom Oorlog en ouma Willemien en Jan en die ander wat in die gopse op Ehomba in Kaokoland in die noorde van Namibië woon – nasate van die bediendes wat in die laat 1800’s saam met die Dorslandtrekkers uit die Transvaal noord getrek het. Dis maklik om by Ehomba, so 600 kilometer noord van Windhoek, verby te ry – en byna almal wat so graag deur Kaokoland toer, ry verby, want op Ehomba, waar die swart Van der Merwes al meer as sestig jaar woon, is nie veel meer as ’n paar vaal huisies en ’n cuca shop nie. En die pad soontoe is vol slote en klippe. Dit is al laatoggend toe ek onder die tambotie voor oom Oorlog se sementsteenhuisie stilhou. Oom Oorlog, ’n kort oompie met ’n mond soos ’n gedroogde pruim, kom onder ’n slaprandhoed nader. Ons skud blad, toe roep hy na een van die ander huisies: “Wilhelmina! Wilhelmie-hie-noe!” Hy beduie na ’n effe gehawende kombuisstoel op sy stoep. “Kom sit, ou seun. Kom. Kom.” ’n Tannie verskyn, haar brilglase botteldik: tannie Wilhelmina van der Merwe, suster van oom Oorlog, en dogter van oorle oupa Slagveld van der Merwe en sy vrou, oorle ouma Rachel. Albei kom sit ook. “Ja, ou wêreld,” sê tant Wilhelmina en vryf oor haar bene. “Ek is mos nou ver in die mikke van die ouderdom.” “Ja-ha, so gaan dit maar,” sug oom Oorlog, “so gaan dit maar.” As jy wil weet waar kom die swart Van der Merwes vandaan, moet jy van die Dorslandtrekkers weet. Die Dorslandtrekkers was ’n paar groepe baie konserwatiewe, onverskrokke boere wat laat in die 1800’s uit die destydse Transvaal getrek het: die Du Plessis’s, die Albertse, die Van der Merwes, die Smitte, die Dreyers en verskeie ander families. Hulle het onder meer getrek omdat hulle nie van T.F. Burgers, die Transvaalse president, gehou het nie. Hulle het deur die barre, onvergewensgesinde sandvlaktes van Botswana koers gekies
en op pad het tientalle van hulle – en hul vee – omgekom van dors en ontbering. Hierdie trekkers het uiteraard vir hulle bediendes ook saamgeneem. Oom Oorlog en tant Wilhelmina se pa was onder hierdie bediendes. “My oorle pa was sommer nog ’n tjind toe hy saam met die Dorslandtrekkers uit die Transvaal uit getrek het,” vertel tant Wilhelmina. “Hy was ’n Zoeloe. Die Dorslandtrekkers het hom langs die pad gekry waar hy met hom se maters speel. Toe vraag die Dorslandtrekkers vir hulle: ‘Outjies, wil julle nie saamgat nie? Daar waar ons heengat, daar peul die patattas sommer so uit die grond uit.’ Toe stim my oorle pa-hulle in. Toe klim hulle op die waense.” Tant Wilhelmina skud haar kop. “Die Dorslandtrekkers het my oupa-hulle as tjinners gesteel, ja.” In sy boek Veldsmanne bevestig Johannes von Moltke dat dit inderdaad die geval was. In heelwat gevalle het die Trekkers jong swart kinders met hulle saamgeneem. Die kinders het vrywillig gegaan, hulle het gedink hulle ry vir die lekker ’n entjie saam. Niemand het vir hulle gesê hul kom nie weer terug nie. Ander bronne betwyfel dit weer. Die Dorslandtrekkers – of dié wat oorleef het – het hulle uiteindelik in Angola gevestig, naby Humpata en ’n paar ander plekke. Tant Wilhelmina is op Humpata gebore. Omdat haar pa en ma – ’n Tswana – as jong kindertjies sonder hul ouers saam met die Trekkers uit die Transvaal weg is, het hulle nie geweet wat hul vanne is nie. Daarom het hulle hul werkgewers se vanne aangeneem. Oom Oorlog en tant Wilhelmina se pa het amptelik Slagveld van der Merwe geword, want sy werkgewer was Gert Slagveld van der Merwe. “Die Dorslandtrekkers het ons mos oorgevat,” verduidelik tant Wilhelmina. “Toe’t ons nie vanne nie. Toe vat ons mos maar hulle se vanne.” Oom Oorlog gaan haal sy identiteitsdokument in die kamer en daar staan dit swart op wit: Oorlog van der Merwe – dieselfde naam as sy oom wat ook na ’n witte vernoem is. Maar oom Oorlog-hulle het nie net die Van der Merwes se vanne oorgeneem nie. Hulle het ook tot groot mate hul kultuur aangeneem. En hul taal, natuurlik. Afrikaans.
Tant Wilhelmina kyk lank na jou deur daardie dik brilglase, dan sê sy: “Ons is Afrikaners, seun. Ons is Afrikaners. Op darie punt sal ek staat tot die dag as die Jirre my nodig het en ek moet vort gaan hiernamaals toe.” “Ons kan mos nie ons opvoeding los nie,” voeg oom Oorlog by. “Ons kan mos nie na ’n ander se opvoeding toe gaan nie.” Die twee oues staan op. Hulle wil my die begraafplaas gaan wys. Daar is ’n stuk of twintig, dertig grafte – almal Van der Merwes. Fredrik en Kristiaan en Filda. Oom Oorlog kniel by een waarop staan: Hier rus Rager van der Merwe. 1881.04.10 -1985.28.08. “Die grafsteenmense op Opuwa het ’n spelfout gemaak, dis eintlik ouma Rachel se graf.” Hoe die Van der Merwes hier op Ehomba beland het, is ’n ander verdrietige storie. In 1928 het baie van die Dorslandtrekkers besluit om uit Angola terug te trek na die destydse Suidwes toe. En baie van hulle se bediendes het maar weer saam getrek. Ook tant Wilhelmina-hulle. “Ons het saam met die Trekkers gepiekel,” sê sy, “maar toe lieg hulle vir ons. Hulle het gesê ons moet net hier op die grens wag. Ons moet maar eers aansukkel, hulle sal ons later kom laai. Maar toe wag ons. En ons wag. En ons wag. Maar hulle kom nie uit nie.” “Dit was die laaste sien van die blikkantien,” sê oom Oorlog en glimlag so skewerig. Tant Wilhelmina kyk verby die grafte die ooptes in. “Ja, ou wêreld,” sê sy. “So gaan dit maar.”
AL HIERDIE NAME
Pieter Olivier, Rita Mans, Sandy Pillay. Marius en Lilian Delport. Jabulani Nzuza. Estelle Burger. Nicolas Katonis. Arthur en Isobel Smith, William en Shirley Dennis, en Petrus en Marika Schoonwinkel. Theo van Niekerk, Griet van der Westhuizen, Kevin McGregor. Bob en Joy Green. Mavis Mtembu. Annemarie Viljoen. Peet van der Merwe. Ismail en Mariam Abrahams. Petrus J. Potgieter. Andries Botha. Flip Cronjé. Claudio Senna, Percy van Zyl, Hunley Kirby, Stefanie van Balen. José Freitas. Jan en Anna Bezuidenhout. Dr. Julie Geldenhuys. Carlo van Litsenborg. Gabisile Hlengwa. William Skinner en sy hond Tiger. Susan Smit. Willem en Albie Kritzinger, Sunny en Janakie Moodley. Fanie Smith. Willie en Anna Marais. Dr. M. Theron. Cedric Biggs. Carel Engelbrecht. Loekie van Nieuwenhuizen, Deon Lourens en Patrick Mabaza. Kleinboy Vuma. Philip Uys. Karel Petrus van der Walt. Fred Naucle. Koos Terblanche. Graham Cumming. Basjan van Reenen. Willie Griebenow. Johan Taljaard, Johan van der Bank, Johan de Jager, Johan Viljoen, Johan van Staden, Johan Steyn, en Johan Lake. Andries Pretorius. Fritz Brentschneider. Johnny Scheepers. Christo Olivier. Hillary Weyers. Ruben Wentzel. Masihlala en Mpendulo Mhlongo. George Siemens. Robin en Alison Dent. Cheryl van Houten. Ben Vorster, André Pienaar en Rudi Schmidt. Piet Botha. Danie Deetlefs. Martie van Biljon. Kleintjie van der Nest. Tonie en Nellie de Necker, Gawie en Dorothea van der Merwe. Irene Holder. Piet Raats, Piet Potgieter, Piet Spangenberg en Piet Roux. Malcolm Potgieter. Justin Killian. Muziwamandla Khuzwayo. C.F. de Witt. Petrus en Dina Cordier. Stan Herbst. Roseline Mogabe. Leonardus Ruiters. Peet en Christa Pretorius, James en Kate Bloem. Douw van Tonder.
Balasindrum Naicker. George en Albertina Lewis. C.L. Aldridge. Niek Goosen. Dolf Loyd. Jaap Dekker, Elsie Swart, Siyabonga Sikhakane. Theuns Goosen. Michael Warren. Stefanus en Thelma Stols. Piet en Gideon van den Heever. Toto Ntetha. Loek Jansen van Vuuren. Murial Taggart. Lynette en Ilse Jooste. Magnus Pieterse. Desmond Cloete. Prof. Liz Ploughman. Herman van Heerden, Herman Vosloo, Herman van Wyk. Solly Mhlaba. Gustav Gallasz. May Rush. Willie Oosthuizen, Willie van Graan, Willie Grobler, Willie van der Poel en Willie van Zyl. Peet Richter. Peter Butt. Theo Verbeek. Mev. K. Swart, mej. V. Landsberg en me. A. Hattingh. Tompson Ncube. Raymond Pool. Mev. H. Niehaus. Swannie Swanepoel, Blackie Swart, Wessie van der Westhuizen. Douw Vogel. Rinus en Wilma Greeff. Mkhanyifeleni Manquele. Marius Klingbill en sy agt en vyftigjarige vrou. Inez Bothma. Lizelle Vermaak. Mnr. en mev. Herbst van Pelgrimsrust. Hannes Aldum. Gerhard en Nellie Scheepers. Frans Janse van Rensburg. Richard Hardy. Piet Erasmus. Dina Buys. Al hierdie name – en nog meer – het ek sedert 2003 in ’n swart aantekeningboekie neergeskryf, nadat ek in die koerant van die mense gelees het. Soms sit ek en lees deur die lys, en dan wonder ek of ek nie almal se adresse ook moes neergeskryf het nie, en hul ouderdomme, en die kleur van hul hare, en watter soort motors hulle gehad het, of watter inligting ook al oor hulle beskikbaar was. Ander kere, weer, wonder ek waarom het ek enigsins hierdie name neergeskryf. Ek kan niks regtig daarmee doen nie. Nie een van hierdie mense is, sover ek weet, familie van my nie. Om die waarheid te sê: Ek het nie een van hulle eens geken of ontmoet nie. Hulle is almal ook al dood, hierdie mense. Hulle is almal in die laaste paar jaar op plase en hoewes iewers in die land
vermoor.
KABOERI
So 40 kilometer buite Arusha aan die voet van die berg Meru in Tanzanië staan die bordjie langs die pad: Oldonyo Sambu. ’n Entjie verder, op regterkant, is ’n winkeltjie. Ek hou daar stil en klim uit. ’n Warm wind jaag stofwolke oor die oopte waar ’n paar boerbokke wei. Op die winkel se stoep sit ’n man met ’n rooi Masaikombers om sy skouers. Sy Engels is maar lamlendig. “Only little bit English,” sê hy. “But I try.” Ek verduidelik vir hom dat ek op soek is na die plase hier naby waar die ou Boere-setlaars hulle in 1904 kom vestig het. Dit was net ná die AngloBoereoorlog en hulle was nie bereid om onder die Engelse bewind in SuidAfrika te lewe nie. Meer as 100 Afrikaanse gesinne het hierheen getrek: Die De Beers, die Van der Westhuizens, die Malans en nog ander. A.A. Pienaar, oftewel die skrywer Sangiro, se ouers het hulle ook hier kom vestig. Hier was ’n Afrikaanse skooltjie, ’n saal en ’n kerkie. Maar niks het daarvan oorgebly nie. Of só lyk dit. Eintlik weet ek nie waarom ek met hierdie soektog besig is nie. Ek is hier in Tanzanië saam met ’n groep Suid-Afrikaners wat op pad is na die Serengeti om na die jaarlikse blouwildebeesmigrasie te gaan kyk. Hulle bring die dag in Arusha deur, ek ry hier in die gopse rond. Die Masai-kêrel op die winkelstoep weet niks van enige Afrikaanse boere wat hier gewoon het nie. Ek klim terug in die bakkie en ry met ’n rowwe paadjie in die berg se koers. Dit is beslis die regte plek, want by my het ek Sangiro se boek, Rolprentavonture, waarin hy beskryf hoe hulle kerkbasaar hier by Oldonyo Sambu gehou het. Ek het ook ’n boek van ene Willie de Beer by my, Held van die oerwoud. Oom
Willie en sy mense het ook hierheen getrek. Oom Willie het hier skoolgegaan by ene Herr Wilske, en later het oom Willie wilde diere vir dieretuine in Europa gevang. Dit klink of oom Willie maar beduiweld was. Een dag het ek en Herr Wilske saam gaan jag, skryf hy in die boek. In die veld wou hy my toe invlie oor iets. Ek het hom egter gou laat verstaan dat ek buitekant die skool niks van sy baasspelery sal gedoog nie. Hy het op my afgestorm, maar ek het hom ’n harde vuishou toegedien en daar en dan was hy bedaar. Miskien moet mens beduiweld wees om hier te oorleef; pioniers is selde vredemakers, dink ek terwyl ek skud-skud die berg se eerste steiltes uitry. Die grensdrade wat nog hier is, hang slap. Oral gaap erosieslote. Dit het die Boere sowat sewe maande geneem om van Suid-Afrika tot hier te kom. Hulle het eers tot by die destydse Lourenço Marques getrek, van waar die Herzog, ’n Duitse skip, hulle tot by Tanga noord van Dar es Salaam aan die Tanzaniese kus gebring het, met hul uitmekaargehaalde ossewaens en ander nodige besittings aan boord. (Oom Willie de Beer het daarin geslaag om sy hond Boel ook saam te bring.) En toe, met nuwe osse, het hulle die onbekende ingetrek, hier na Arusha en Oldonyo Sambu toe. Party het hul plase Afrikaanse name gegee: Gousblom, Saaihoek, Kampfontein. Nêrens is iets daarvan te sien nie. Langs die pad loop ’n man, ook ’n Masai-kêrel. Ek hou by hom stil. Toe ek die woord “boer” sê, glimlag hy met geel tande, en vra: “kaBoeri? You want kaBoeri?” Ek probeer meer oor die kaBoeri by hom uitvis, maar ons woorde mis mekaar soos skepe in die nag. Hoe het die ou boere met die Masai en ander plaaslike mense gekommunikeer? wonder ek. Of het die ou boere net een taal geken? Die paadjie raak al hoe steiler en rowwer. Naby die pad staan ’n sementdam, maar een muur makeer, en binne groei onkruid deur die krake. Afrika het gegee en Afrika neem nou terug. Waar sou die ou skooltjie gestaan het, en waar die kerkie? wonder ek terwyl
wolke stof verby die bakkie waai. In die NG Kerk se gemeentealbum van 1909 word gepraat van dié gemeente – en ook verklaar: De menschen in Oost Afrika zullen niet weer terugkeren na Zuid-Afrika, en binnen noch 30 of 50 jaren zullen zij een sterke Boerebevolken vorm te midden van miljoenen heidenen. Daar is verskillende redes waarom die boere hier weg is: In 1914 met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het die Duitsers baie van die boere onder huisarres geplaas. Dit was vir party net te veel. Maar baie het hier gebly en selfs aan die Duitsers se kant geveg. Die afgeleënheid het ander gevang. En toe begin die roerings van bevryding boonop in Afrika. Maar heelwat van die oues is tog ook hier oorlede, ná ’n lang, harde lewe. Langs die pad loop twee vroue. Hulle dra sandale wat van ’n motor se buiteband gemaak is. Ek hou by hulle stil en vra of hulle iets van die kaBoeri weet. “Yes, yes,” sê die een. “Higher up.” Sy beduie bergop na iets wat soos ’n huis tussen donker bome lyk. “What for?” vra sy. “What for what?” sê ek. “Why looking for the kaBoeri?” “I’m a kaBoeri as well,” sê ek. “Maybe I can learn something about myself if I can find out more about them.” Dit was ’n pretensieuse ding om te sê, besef ek toe ek van hulle af wegry. Maar soms sê mens onverwags dinge wat jy wens is waar. Dit is inderdaad ’n huis wat daar tussen die bome staan, sien ek ná so ’n kilometer of twee se geskommel. Dit lyk ’n bietjie na ’n Vrystaatse plaas – ’n baie vernielde een: Die lyndrade hang slap, die opstal smag na verf. Ek hou voor die deur stil. ’n Man en vrou kom uit. Die vrou se naam is Margaret Moshuma en sy kan so op ’n plan Engels praat. Ek verduidelik weer van die kaBoeri.
“Come,” sê Margaret, asof sy al hoe lank vir my wag om te kom. “I show you.” Ons stap by ’n hekkie uit, oor die werf. Die buitegeboue se mure is gebars en die dakplate geroes. Onder ’n boom, op ’n gekrokte Farmall-trekker se neus, staan ’n pou en pronk. Ons gaan by nog ’n hekkie uit, deur ’n dor mielieland; en dan is daar iets soos ’n eiland in die middel van die land, oorgroei met knapsekêrels en ander onkruid. Margaret beduie daarna. “That’s all what’s left from the kaBoeri: one grave.” Ek stap tussen die onkruid in, en, ja, hier voor my voete, meer as 5 000 kilometer van Suid-Afrika af, lê ’n boep grond, ’n graf sonder ’n grafsteen. “Where’s the stone?” vra ek. Maar dit lyk nie of Margaret weet nie. Sy praat in Swahili met die man. Toe sê sy: “He think he know where.” Ons stap terug opstal toe. By ’n kraan in die verdroogde voortuin gaan staan hy. Hy sê iets vir Margaret en beduie na die kraan. “There’s the stone,” sê sy en beduie ook na die kraan. Toe sien ek dit: Op die grond onder die kraan ’n groot, plat klip wat moet keer dat daar te veel modder onder die kraan vorm. Ek stap nader, lig dit op, en draai dit om. Terwyl die wind deur die bloekoms se takke bokant ons koppe huil, lees ek vir Margaret en die man die woorde hardop wat daarop uitgekap is: Hier rus Jacob Jacobus van der Westhuizen. Gebore: 4/7/1894. Oorlede: 8/9/1953. Gen. 3 vers 19: In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood eet, totdat jy terugkeer na die aarde waaruit jy geneem is. Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.
OUMA SE KOEKPOEDING
Ek en Oupa het Sondag vir ons elkeen ’n forel op sy Cressida se enjin gaargemaak. Ons is die oggend net ná kerk uit Pretoria weg, ek en hy. Oupa is mos nou in die ouetehuis, Huis Lammie Hendriks. Ná Ouma se dood vroeg in Maart het hy die huis in 12de Laan verkoop en soontoe getrek. Ek dink die ou man mis Ouma meer as wat ons besef. Ons was skaars uit die stad – ek het die Cressida bestuur – toe vra hy of ek onthou hoe lief Ouma was vir die koekpoeding wat hy altyd op die enjin vir haar gemaak het. Natuurlik onthou ek dit. Van my vroegste herinneringe – ek was toe seker so vyf, ses jaar oud – is hoe ons stilhou-stilhou iewers heen ry, ek en Oupa en Ouma, terwyl Oupa vir ons die een of ander dis op sy motor se enjin gaarmaak. Die Ranger, die Holden, die Ford F100-bakkie – op al sy motors se enjins het Oupa vir ons kos gemaak wanneer ons vakansies die pad vat: skaapnek, koekpoeding, vis, wors, boeliebief, hoender. Op daardie ou motors se enjins kon ’n mens nog ordentlik kook. Daar was meer as genoeg ruimte op die top rondom die lugfilter om jou geregte te pak sodat die hitte dit kan bearbei – anders as deesdae se modelle waarvan die enjins heeltemal toegekoek is met rekenaars en allerhande ander plastiese goed. Dis waarom ons nou die Sondag met Oupa se Cressida gery het want op my Polo se enjin kan jy nie eens ’n broodrolletjie behoorlik warm maak nie. Jou Cressida – veral die sessilinder-model, die GLX – het nog ’n redelike kookarea. Ons het die R101 gevat – die ou hoofpad Noorde toe, verby Hammanskraal, verby Pienaarsrivier, met die forelle op die enjin, toegedraai in foelie, en Steve Hofmeyr wat sy liedjie “Pampoen” oor Radio Rippel sing.
As ek so 100 kilometer per uur ry, het ek bereken, behoort die visse gaar te wees wanneer ons by Klein-Kariba anderkant Bela-Bela, wat eers Warmbad was, kom. Daar is mos hierdie lekker piekniekplek waar ons dit in vrede kan sit en eet. Karkook is nie ’n presiese wetenskap nie. Op ’n koue dag sal jou forel of wat jy ook al maak langer neem om gaar te word as op ’n warm dag. Dit spreek vanself. Jy gaan ook nie ’n skaapnek sommer binne 50 kilometer gaar kry nie, al ry jy met ’n gezoepte Nissan Skyline teen ’n gemiddelde kookspoed van 178 kilometer per uur. Geduld. Dit is die wagwoord wanneer dit by karkook kom. En geduld is mos iets wat Oupa nie het nie. Ons was skaars uit die stad, toe vra hy: “Het ons ganog hitte, ou seuna?” “Oorgenoeg, Oupa. Oorgenoeg.” “Is jy seker, ou seuna? Moet ons nie maar stilhou en kyk nie?” “Ontspan net, Oupa. Ontspan.” Ek het oorgeleun en een van die ou man se Jim Reeves-kassette in die speler gedruk: Jim Reeves’ Greatest Love Songs. Volume II. Hy en Ouma het altyd so graag na Jim geluister. Oupa het teruggesak in die sitplek, met sy knopperige hande hier voor hom op sy bobene, terwyl Jim sing: “I can’t stop loving you. I’ve made up my mind. To live in memory of the lonesome times ...” Daardie geel vlakte anderkant Pienaarsrivier pas nogal by ou Jim se stem. Maar, skaars 15 kilometer verder, by Radium, toe wil Oupa weer weet: “Dink jy nie ons het die vis te styf in die foil toegedraai nie, ou seuna?” “Ek glo nie, Oupa.” “Jong, ek dink ons moet maar seker maak.” Ek het langs die pad stilgehou, die enjinkap oopgetrek, die oondhandskoene en die broodplank uit die mandjie op die agtersitplek gehaal en uitgeklim. Dis goed om so ’n mandjie met die nodigste by jou in die motor te hê wanneer jy op jou
enjin kook: Handskoene, ’n broodplank, sout, speserye, ’n nat lappie – sulke goed. Oupa het langs my by die oop enjinkap kom staan en kyk hoe wikkel ek die gefoeliede forelle los waar dit knus onder die lugfilter lê, hoe sit ek dit op die broodplank op die verkoeler neer en hoe vou ek die drie lae foelie oop. (Een laag foelie is meestal nie genoeg nie.) H’m. Onse vissies was al aan die sag word. Dit kon jy sien. En ruik. Net vir die wis en die onwis het ek en Oupa saam met ’n bottersousie ook ’n bietjie tamatie en uie bygesit. Met vinkel en swart peper daarby. En ’n bietjie witwyn, natuurlik. Dit is altyd goed om jou forelle met witwyn te bederf. Ek het die blink bondel weer onder die lugfilter ingewikkel. “Moet ek nie maar vir ons die blikkie sweet corn ook opsit nie, ou seuna?” het Oupa gevra. Dit was ’n goeie plan: Sweet corn smaak lekker saam met ’n forel. Onthou net, moet nooit blikkieskos op jou enjin verhit sonder om vooraf gate in die blikkie te maak nie. Die versekeringsmaatskappy se assessor gaan beslis nie dink dis snaaks as jy vir hom sê die gat in jou Opel Monza se enjinkap is die werk van ’n blikkie boontjies wat ontplof het nie. Op Bela-Bela wou Oupa weer hê ek moet stilhou. Nes jy die dorp inkom, oor die treinbrug, is daar ’n garage op jou linkerkant. Eens op ’n tyd was daar ’n Wimpy Bar ook, maar dié het afgebrand. Net daar hou ek stil en maak die enjinkap weer oop. Oupa tel die plastieksak, wat hy by hom gehad het toe ek hom by Huis Lammie Hendriks opgelaai het, by sy voete op en kom staan langs my. ’n Aangename geurtjie hang bokant die Cressida se enjin: Ons forelle. “Wat het Oupa daarin?” Ek wys na die sak in sy hand. Sonder om iets te sê, haal Oupa ’n ding uit die sak. Dis ook in foelie toegedraai. Met stram vingers vou hy die foelie oop. Dis Ouma se koekpoeding. Neem een gewone sponskoek, vier piesangs, ’n klomp malvalekkers en ’n Flake.
Sny die koek in skywe en plaas skyfies piesang, stukkies Flake en van die malvalekkers tussen die skywe. Draai toe in drie lae foelie en verhit op enjin. “Jou ouma was tog so lief daarvoor, ou seuna.” “Ek weet, Oupa. Ek onthou.” “Dit voel so lank gelede, ou seuna.” Iemand moet ons dopgehou het want opeens vra ’n stem agter ons: “As ek mag vra, wat maak julle?” Dis ’n man wat by die garage stilgehou het vir petrol. Hy is seker so vyf en veertig, vyftig jaar oud, met ’n gryserige baard. Hy loer nuuskierig onder die enjinkap in. Oupa gewaar hom nie. Hy staan krom oor die enjin, sy bril laag op sy neus, besig om ’n warm plekkie vir Ouma se poeding te soek. Ek druk die man eenkant toe. “Al verduidelik ek ook vir jou wat hier gebeur, Meneer,” sê ek. “Jy sal tog nie verstaan nie.”
1 KORINTIËRS 13
Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek slaap snags onder ’n brug, of in die veld, of saam met klomp ander in ’n plakkershut, het ek ’n klinkende metaal, ’n galmende simbaal geword. Al pas ek motors in parkeerterreine op, swaai heeldag ’n rooi vlag by padwerk, of staan by ’n verkeerslig met ’n plakkaat waarop geskryf is: No money, no job, please help, en al is ek jonk en sterk en gesond, maar ek het nie ’n adres in ’n goeie woonbuurt en ’n padwaardige motor nie, dan is ek niks. Al het ek suiwer bedoelings, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te beroem, maar ek het nie geleerdheid en ’n bankrekening met geld in nie, baat dit my weinig. Die armoede is ongeduldig, die armoede is nors; dit is nie bedaard nie, is nie kalm nie, is nie vredig nie. Dit handel onwelvoeglik, laat jou in asblikke krap, onder bosse slaap, en ou kartondose en afvalyster versamel en verkoop. Die armoede verbly hom nie oor nuwe winkelsentrums, nuwe private hospitale en nuwe gholfbaanontwikkelings nie, maar dra daartoe by dat sommige steel en roof en moor. Dit bedek weinig, maar glo alles, hoop alles, verdra alles tot daar weer iets is om te eet.
Die armes sal nie verdwyn nie, hulle was altyd daar, op markpleine en straathoeke, in stalle en in krotte naby spoorlyne, in bywonershuise op plase, in townships en scrapyards en Salvation Army shelters en parkeerterreine. Maar die wêreld waarin armoede geduld word, sal nie altyd daar wees nie. Die gawe van ekonomiese vooruitskattings sal altyd slegs skattings wees. Rentekoerse sal styg en daal, geldeenhede sal verbeter en verswak, nuwe en beter motors, rekenaars en selfone sal die oues vervang, en wanneer daar nuwer en beter en vinniger modelle en produkte is, sal die voriges uitgedien wees. Want ons ken maar gedeeltelik, en ons profeteer maar gedeeltelik, maar wanneer die nuwe kom, sal wat gedeeltelik is, van weinig waarde wees. Dié wat niks het nie, het niks om te verloor nie, maar dié wat baie het, het baie om te verloor. Toe ek ’n kind was, het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, en soos ’n kind geredeneer dat ek nie soos die ander rondom my uitgelewer wil wees aan staatstoelae, sopkombuise, pensioenrye, vuil klinieknaalde, stukwerk en die beloftes van politici nie. Maar noudat ek ’n man is, is ek klaar met die dinge van ’n kind. Nou swaai ek rooi vlae by padwerk, nou sak ek onder die aarde in myne in, nou ry ek agterop bakkies na boupersele, nou staan ek met bedelplakkate en sakkies tamaties en koerante en snuisterye by verkeersligte, en ek kyk na die motors wat verbykom en sien, soos in ’n spieël, die gesigte raaiselagtig agter die ruite. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken. Intussen bly twyfel, wanhoop en liefdeloosheid – hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefdeloosheid.
OGGENDGODSDIENS
Baie oggende wanneer ek die son sien opkom, dink ek aan tant Kowa Strauss. Tant Kowa woon op Eksteenfontein in die Richtersveld, in ’n witgekalkte huisie met ’n holgetrapte drempel en ’n bakoond in die jaart. Ons het toevallig ontmoet, ek en sy. Ek moes Richtersveld toe en is die dag laterig eers uit die Kaap weg. Toe ek net ná halfelf die aand op Eksteenfontein kom, is die enigste gastehuis vol en byna die hele dorp slaap al. Eksteenfontein is ’n klein plekkie: een of twee winkels, elk met die onafwendbare Coke-teken op die gewel; ’n poskantoor, ’n munisipale kantoor, boerbokke oral – en geen straatligte nie. Ek het maar die bakkie in die donker onder ’n boom langs die straat getrek en my onder ’n slaapsak op die sitplek tuisgemaak. Of nee: Ek het eers lank op ’n klip langs die bakkie die stilte sit en beluister. Dit was donkermaan en die sterre was laag en helder. Oorkant die pad, kon ek vaagweg sien, was ’n huisie. Elke keer wanneer ek daardie leë wêreld inry, voel dit asof ek in myself inry. Later het ek teruggeklim in die bakkie en die slaapsak oor my getrek. Die volgende oggend, voor vyf, toe word ek wakker van ’n vrou wat êrens in die donker sing: “Nader my Go-hod, by U ...” In so ’n trekkerige oumensstem. Eers het ek gedink ek droom, maar toe ek regop kom, hoor ek die stem kom uit die huisie oorkant die pad se koers: “... Al is daar ook ’n kruis nodig vir my ...” Nou was ek wawyd wakker en onseker wat om te doen. Ek was lus vir koffie maar het niks by my gehad om mee koffie te maak nie. Slaap sou ek nie weer kon nie. Toe sit ek maar en luister na Psalm 8: “Daar is geen land so ver en woes
geleë ...” In die ooste het die dag agter die klipkoppe begin deurslaan. “... geen strand, o Heer, of wilde waterweë ...” Ek het later uit die bakkie geklim en weer op daardie klip gaan sit. Dit was amper asof daardie stem die son wou aanjaag: “... geen hemelsfeer in die oneindigheid ...” Die lug agter die koppe het begin gloei, in die oopte het kokerbome en halfmense verskyn en êrens het ’n hoender aan die kraai gegaan. “... Of orals blink u Naam en majesteit ...” ’n Koue luggie het uit die aarde opgeslaan en ek kon doudruppels op die klipaalwyntjie naby my se blare sien blink. Dit was of daardie stem dringender geword het hoe hoër die son geskuif het. Op ’n vreemde manier het dit gelyk asof dit daardie stem is wat die son laat skuif. Ek het omgekyk en toe, vir die eerste keer, sien ek in die skemer wie sing so. Sy het langs die huisie se voordeur op ’n bankie gesit met ’n kierie tussen haar knië. Tant Kowa Strauss. Dit het nie gelyk of sy van my teenwoordigheid bewus is nie. Sy het voortgesing, en terwyl sy sing, het die son in ’n helder gloed agter die koppe uit geskuif. Toe verskyn daar allerhande bossies en plante: duifdorings en gansoë en stinkkruid en karkoere. En in die verte het ’n troppie boerbokke uit die vlakte opgestaan en begin wei. En dit was mooi en dit was goed. Ek het opgestaan en na tant Kowa toe gestap. Dit het steeds nie gelyk asof sy my sien nie, maar toe ek die hekkie oopstoot, vra sy: “Kan ek help?” Ek het verduidelik ek kom van die Kaap af en het die nag voor haar huis geslaap. “Jou tante hoop nie sy het jou wakker gemaak nie,” het sy geantwoord. “Jou tante sing mos maar soggens só. Sy kan mos nie Bybel lees nie.” Toe eers het ek die twee blinde oë uit tant Kowa se oogkasse sien staar.
ANDERKANT DIE SCRAP
Ek sal vir my ’n Bar One-bruin of kapoengeel Valiant Regal in die Karoo gaan koop: op Oudtshoorn of Barrydale, op Hanover of Merweville of Vanwyksvlei. Sy sou waarskynlik aan ’n afgetrede skoolhoof behoort het, hierdie Valiant van my. Of aan ’n gewese stasiemeester. Of, só sal die verkoopsman my seker probeer wysmaak, aan die weduwee van ’n AGS-pastoor wat die laaste drie en twintig jaar slegs Sondae kerk toe en terug gery het. O, my Valiant wou my hê, en nou het my Valiant my gekry! Ek sal in haar klim en die pad vat; en natuurlik sal ek so ’n effense glimlaggie op my bakkies hê, en my regterelmboog sal in die oop venster op die deur rus. (Ek sou graag met my vingers op die dak wou getik-tik het, maar ek sal te diep weggesak agter die stuurwiel sit, my hand sal nie die dak bykom nie.) Ek sal nie vinnig ry nie. Jy moor nie ’n Valiant nie, ’n Valiant het ook ’n siel. Ek sal die speedometer se rooi naald tussen so 80 en 90 kilometer per uur heen en weer laat wieg, verby Klaarstroom en Rietbron, en ek sal van elke bultjie en hobbel en draai weet, want Afrika is geskryf in ’n soort braille wat ’n Valiant goed kan lees. Op Beaufort-Wes sal ek stilhou en lekker uitstrek en vars lug inasem, en miskien sal ek Gertjie by sy huis gaan oplaai, sodat hy ander dorpe se beautiful woorde ook kan gaan ontdek. Hy sal ook dalk maar sy kitaar moet saambring, want die een of ander tyd sal ons moeg raak vir ons CD’s. Miskien kan ek ook reël dat Maggie met die Greyhound tot op Beaufort kom met ’n mandjie padkos: wors en hardgekookte eiers en kaastoebroodjies, en sy moet tog nie die jammerlappie vergeet nie, ek soek nie vetkolle in my Valiant nie. Dan sal ons drie, ek en Maggie en Gert, verder ry, al drie van ons op die voorsitplek, natuurlik – plus Gert se kitaar. Die Komsberge se skurwe rug sal in die verte lê en by die Shell-vulstasie op Drie Susters sal ek seker maar weer moet petrol ingooi, want ’n Valiant het sy prys.
Terwyl Gert en Maggie koeldrank koop, sal ’n man langs my by die Valiant kom staan. “Onthou Meneer my?” sal hy vra. Dan sal ek mooi kyk en sien, my maggies, dis Fred, die ou wat ek eenkeer op ’n plot naby Pretoria raakgeloop het wat sy huis vertrek vir vertrek verkoop. Fred sal wil weet of hy nie kan saamry nie, hy was eintlik op pad PE toe, maar op Trompsburg het ’n hond sy ID-boek opgevreet, en wat kan ’n man nou sonder ’n ID-boek in PE maak? Fred sal inklim en Gert en Maggie sal terugkom, en net anderkant Drie Susters sal ons van die N1 af draai – Victoria-Wes se koers. Op Noblesfontein sal ons stilhou en vir oom Mannetjies Roux groete stuur; en dan, naby Hutchinson, sal ek in die truspieëltjie kyk en, wraggies, daar sit oorle Oupa langs Fred op die agter-seat met sy tiervelhoed op sy kop. Op die toneel. Ek sal hom nie onder sy snuifgeel snor op die mond soen soos toe ek klein was nie, ons sal sommer in die ry vir mekaar met die duim wys alles is oukei, alles is fine. Op Victoria-Wes sal ons uiteraard by daardie kroeg op die hoek skuins oorkant die Spar stilhou en vir ’n rukkie celebrate, want op pad is drie Boeings al bokant ons verby, met wit vogstrepe agterna. Ek sal gou vir Pa van ’n tiekieboks af gaan bel en vir hom sê hy moet op die Transkaroo klim en ons op De Aar ontmoet, daar is dinge waaroor oorle Oupa met hom wil gesels. En hy moet sommer vir Agnes en Jerry, my twee huisengele, saambring, dis deesdae gevaarlik so alleen op die trein. Wanneer ons terugklim in die Valiant sal oom Nel se kroegmeisie saam met my en Gert en Maggie op die voorsitplek inskuif, en in haar arms sal ’n baba wees, en dis maar reg so, hulle twee kan ook saamry. Hoe het Pa-hulle altyd in die ou dae gesê? In ’n Valiant is altyd plek vir nog een. Ons sal ook seker maar stilhou by die ou met die gipsarm wat buite die dorp in ’n warrelwind staan en hike. Hy sal iets vir ons sê van hy het sy arm gebreek toe hy naby Welkom van ’n motor se dak geval het, maar ons sal hom nie uitvra nie. O, vadertjie tog, ons almal is al so moeg vir ouens met bierasems se hard luckstories. Ons sal in die Valiant oor die vlakte wieg en oor die luidsprekers sal The Waterboys sing “We’re living in a strange time, working for a strange goal. We’re turning flesh and body into soul” en duskant Britstown sal ’n stukkende Datsun Stanza langs die pad staan met ’n moedelose gesin daarby. (Duskant
Britstown staan altyd stukkende Datsun Stanzas met moedelose gesinne daarby.) Ons sal by hulle stilhou, want ná ’n ruk in ’n Valiant op die langpad begin jy glo aan hoe minder haas hoe meer spoed. Die moedelose gesin se moedelose pa sal sê hulle is oorspronklik van Skipskop af, maar nou swerf hulle maar so agter die warm winde en tolbosse aan, en nou het die bleddie Stanza bearings geslaat. Ag, dan moet hulle ook maar agter by Fred en Oupa inklim. Dit sal al donker wees wanneer ons De Aar op ons skip invaar, maar ons sal nie by die Walter Hotel met die piepende plankvloere gaan inboek nie. Ons sal stasie toe gaan en tot diep in die nag op die hortjiesbanke op Perron 4 sit en wag vir die treine om te begin shunt. Terwyl ons wag, sal ons Maggie se padkos eet, en later sal ou Fred en die oudste van die Skipskop-girls baie danig met mekaar raak. Oupa sal vir nog koffie uit die twee bont flesse vra, en twee kêrels in verweerde baadjies met raglan sleeves sal oor die perron geboemel kom. Die een sal sê sy naam is Boggom, die ander sal sê hy is Voertsek, kan hulle ook maar saamry? Hulle is op pad om as boilermakers op Secunda te gaan werk. Natuurlik kan die twee saamry: Valiants is demokratiese karre. Dan sal die treine begin shunt en nie een van ons sal iets sê nie. Ons sal stil sit en luister na daardie heilige gestamp en gefluit, en Fred sal vir die Skipskop-girl die Suiderkruis probeer wys, en die baba sal nie in die kroegmeisie se arms huil nie. Daarna sal Pa en Jerry-hulle met hul koffers van die Transkaroo af klim, dan sal ons terugstap na die Valiant wat steeds daar onder die peperbome in die straatligte staan en blink. Ons sal inklim en Fred sal vra of hy en die Skipskopgirl maar in die kattebak kan saamry, hy het vir hulle ’n klapperhaarmatras georganise. Naby Strydenburg sal die son opkom en die oggend sal Psalm 23 word en Oupa en Pa sal soos die leeu en die lam op die agtersitplek sit en gesels, en miskien sal Gertjie sy kitaar uithaal en miskien ’n nuwe songetjie uit die snare loswikkel. Duskant Hopetown – ai, tog – sal daardie Gypsey-karavaan weer staan, met die man en die vrou en die kind daarby. Die man het toe nie daardie job by Goodyear in PE gekry nie, maar op Richardsbaai is glo nuwe moontlikhede. Ek sal maar stilhou by hulle, want hulle het mos nie ’n kar nie, hulle hike mos met die karavaan.
Ons sal uitklim en help om die karavaan aan die Valiant te haak. Dan sal ons daar op die vlakte staan en die laaste van Maggie se padkos eet. Miskien sal die twee lovebirds ook uit die kattebak klim en by ons kom staan met ’n sagte kyk in die oë. Dan sal ek miskien met my selfoon ’n foto van ons almal neem en dit SMS aan Marthinus van Schalkwyk en Manto Shabalala-Msimang, aan Dan Roodt en Jan Blohm en Niekie van den Berg van RSG, aan Cosatu, Solidariteit, die FAK, die WP-rugbyunie, die SAKP, die NG gemeente Moreletapark, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en al ons manne in die operasionele gebied in Irak. Dan sal ons verder ry, verby Hopetown sal ons ry in die Valiant, dieper die binneland in. Ons sal verby Anglo-Boereoorlog-grafte ry, verby konsentrasiekampe en plakkerskampe en Toskaanse huise, verby nuwe gholfbane en leë plaasopstalle met gebreekte ruite. Ons sal verby toegegooide munisipale swembaddens en China Shops en Cash Loans-plekke ry, verby koerantplakkate waarop moorde, moorde en Springboknederlae aangekondig word. Ons sal verby motorwrakke ry, verby verlate Geloftefeessale en met onkruid oorgroeide dorpspleine waar die spore van mans in velskoene en osse en ossewaens sedert ’38 se Simboliese Ossewatrek in sementstroke bewaar lê. Ons sal verby pensioenrye voor poskantore ry, verby kerkbasaars en protesoptogte en môremarkte, verby Spaza Shops en straatkafees waar mense met donkerbrille op hulle voorkoppe sit, verby Holiday Inns en City Lodges waar oorgewig amptenare in rye by die buffettoonbank staan en wag. Ons sal verby baie scrap ry. Ons sal ry. Tot ons die moontlikheid sien van geborgenheid wat soos lugspieëlings op die horison lê en bewe, sal ons ry.
DANA WIL NET SÊ
Jeanette Ferreira, my redakteur, baie dankie vir jou geduld met al my beloftes – en vir als wat ek by jou leer. Bun Booyens (redakteur: Weg) en Peet Kruger (redakteur: Beeld), dankie dat julle my die kans gee. Sorrie, Katrina, jou storie is nie in nie. Maar volgende keer, dis ’n promise. Dankie, almal wat goed is vir my stories.
Die einde
Deur dieselfde skrywer:
Uit die binneland, Human & Rousseau, 2005 On the back roads, Tafelberg, 2008 Op die agterpaaie, Tafelberg, 2008 Op die toneel, Human & Rousseau, 2009
Sommige van hierdie verhale is ’n verwerkte weergawe van artikels en rubriek wat in die buitelugtydskrif Weg verskyn het, asook van rubrieke wat in die dagblad Beeld verskyn het.
Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms) Bpk, Heerengracht 40, Kaapstad, 8001 Posbus 5050, Kaapstad, 8000, Suid-Afrika www.humanrousseau.com
Kopiereg © Dana Snyman 2006
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting.
Voorbladfoto: Dana Snyman E-boekontwerp: Trace Digital Services
Ook beskikbaar in druk: Eerste uitgawe, eerste druk 2006 Negende druk 2011 ISBN: 978-0-7981-4714-9
Epub-uitgawe: Eerste uitgawe in 2012 ISBN: 978-0-7981-5741-4 (epub)
Mobi-uitgawe: Eerste uitgawe in 2012 ISBN: 978-0-7981-6181-7 (mobi)