Die
skuilplek
CORRIE TEN BOOM
Saam met John en Elizabeth Sherrill
Lux Verbi
Voorwoord
Terwyl ons die navorsing vir God se smokkelaar gedoen het, het een naam herhaaldelik opgeduik: Corrie ten Boom. Dié Hollandse vrou – wat reeds iets in die 70 was toe ons die eerste keer van haar gehoor het – was Broer Andrew se gunsteling reisgenoot. Broer Andrew was ’n sendeling agter die Ystergordyn. Hy het sy boeiende verhale oor Corrie in Viëtnam – waar sy die eerbaarste titel “Oumagrootjie” verdien het – en in ’n dosyn ander kommunistiese lande weer en weer vir ons vertel. Uiteindelik het ons hierdie verhale so dikwels gehoor dat ons ons hande moes ophou om die stortvloed te keer. “Ons sal haar nooit in hierdie boek kan inpas nie,” het ons gesê. “Sy en haar storie sal ’n hele boek kan vul.” Dit is die soort woorde wat ’n mens kwytraak sonder dat jy dit waarskynlik regtig bedoel. In Mei 1968 het ons ’n erediens in Duitsland bygewoon. Tydens die diens het ’n man vir ons van sy ervarings in ’n Nazi-konsentrasiekamp vertel. Sy gesig het die verhaal beter vertel as sy woorde. In sy oë het die pyn nog vlak gelê; sy bewende hande het verklap dat hy steeds nie kan vergeet nie. Hy is gevolg deur ’n witkopvrou, stewig gebou en prakties aangetrek. Uit haar gesig het liefde, vrede en vreugde gestraal. Maar… hierdie twee mense het presies dieselfde storie vertel. Ook die witkopvrou was in ’n konsentrasiekamp; sy het dieselfde barbaarsheid beleef; sy het dieselfde verliese gely. Die man se reaksie was maklik om te verstaan. Maar die vrou s’n? Ons het ná die diens agtergebly om met haar te gesels, en só het ons Andrew se Corrie ontmoet. Cornelia ten Boom se wêreldwye bediening van vertroosting en wyse raad het reeds in die konsentrasiekamp begin, daar waar sy die skuilplek gevind het waarvan die profeet Jesaja praat: “… ’n toevlug vir die armes, ’n toevlug vir die behoeftiges in hulle nood, ’n skuilplek teen die stortbuie, ’n skaduwee teen die hitte.” Ons het ’n hele paar keer vir haar gaan kuier, en elke keer het ons hierdie
verstommende vrou al hoe beter leer ken. Saam het ons die effens vervalle Hollandse huisie, net een kamerbreedte wyd, gaan besoek. Daar het sy as ongetroude vrou en horlosiemaker rustig gewoon totdat sy 50 was. Min het sy gedroom dat ’n hele wêreld vol avontuur net om die hoek gewag het terwyl sy haar oudste suster en pa versorg het. Ons is ook saam na die tuin in Suid-Holland waar die jong Corrie haar hart vir ewig weggegee het. Saam is ons na die groot baksteenhuis in Haarlem waar Pickwick te midde van die oorlog egte koffie bedien het… Die hele tyd het ons die eienaardige gevoel gekry dat ons nie op die verlede terugkyk nie, maar vooruit kyk tot in die toekoms. Asof dié mense en plekke nie met ons praat oor dinge wat reeds gebeur het nie, maar oor die wêreld wat in die 1970’s voor ons gelê het. Toe reeds het ons ervaar dat ons by Corrie kon leer hoe om dit te hanteer wanneer: •ons van geliefdes geskei word •ons met min moet klaarkom •ons veiligheid te midde van onveiligheid moet vind •ons moet vergewe •God ons swakheid gebruik •ons moeilike mense moet hanteer •ons die dood in die oë moet kyk •ons ons vyande moet liefhê •dit lyk of die Bose oorwin.
Ons het met haar gesels oor die praktiese aspekte van alles wat sy kon onthou. Ons het geluister hoe haar herinnerings lig werp op probleme en besluite wat ons hier en nou in die gesig gestaar het.
“Maar dit is mos waarvoor die verlede daar is,” het sy gesê. “Elke ervaring wat God vir ons gee, elke mens wat Hy in ons lewe inbring, is deel van die volmaakte voorbereiding vir die toekoms wat net Hy kan sien.” Elke ervaring, elke mens… Pappa, wat die heel beste herstelwerk aan horlosies in Holland gedoen en telkens vergeet het om die rekening te stuur; Mamma, vasgekluister aan haar siek liggaam, maar met ’n vry en ongebonde lewensingesteldheid; Betsie, wat ’n partytjie kon hou met drie aartappels en teeblare wat al twee keer gebruik is. Toe ons in die blou oë van hierdie onoorwinlike vrou kyk, het ons gewens dié mense kon ook deel van ons lewe wees. Later het ons besef dat hulle wel deel van ons lewe kon word…
John en Elizabeth Sherrill Julie 1971 Chappaqua, New York
1
Die 100ste verjaarsdagpartytjie
Ek wip vinnig uit die bed met net een vraag in my gedagtes: Son, of mis? Januarie in Holland is gewoonlik koud en nat en vaal. Maar so af en toe – op seldsame, asemrowende dae – breek daar ’n flou wintersonnetjie deur. Ek leun so ver ek kan by my slaapkamervenster uit. Dis altyd moeilik om die lug vanuit die Beje te sien. Vensterlose mure staar my aan, saam met die agterkant van ander stokou geboue in dié digbevolkte kern van Haarlem. Ek strek my nek nog verder uit om te kan sien, en sowaar! Daar bokant die koddige dakke en krom skoorstene steek ’n vierkantjie bleekblou lug uit. Ons gaan ’n sonskyndag vir die partytjie hê! Ek gee ’n paar dansies terwyl ek my nuwe rok uit die lendelam kas teen die muur haal. Pappa se slaapkamer is reg onder myne, maar op 77 slaap hy baie vas. My dansery sal hom glad nie pla nie. Dis die een voordeel van oudword, dink ek terwyl ek my arms by die moue inwerk en die resultaat in die spieël teen die hangkas se deur bekyk. Al dra sommige Hollandse vroue hier in 1937 hulle rokke tot net op die knie, hang myne steeds ’n versigtige sewe sentimeter bokant my skoene. Jy word nie jonger nie, herinner ek my spieëlbeeld. Miskien is dit die nuwe rok wat maak dat ek meer krities as gewoonlik na myself kyk: 45, ongetroud, middellyf allesbehalwe slank. My suster Betsie, sewe jaar ouer as ek, het steeds die slankheid en grasie wat mense op straat laat omdraai om haar agterna te staar. Die hemel weet, dit is nie haar klere nie. Ons horlosiewinkel het nog nooit veel geld ingebring nie. Maar wanneer Betsie ’n rok aantrek, gebeur daar ’n wonder. My rokke… wel, die some trek los; my kouse leer; my krae dop om – totdat
Betsie hulle onder hande neem. Maar vandag, dink ek terwyl ek so ver moontlik in my kamertjie van die spieël af gaan staan, lyk ek baie deftig in die maroen rok. Ver onder my in die straat lui die deurklokkie. Besoekers? En dit nog voor seweuur in die oggend? Ek maak my slaapkamerdeur oop en huppel met die steil wenteltrap af. Dié trap is bloot as ’n nagedagte by dié sonderlinge ou huis gevoeg. Eintlik woon ons in twee huise. Die voorste een is ’n tipiese oudHaarlemse huisie, drie verdiepings hoog, twee kamers diep en slegs een kamerbreedte wyd. Op die een of ander onbekende tydstip in die huis se lang geskiedenis het iemand ’n gat deur die agterste muur gebreek en die huis met die nog smaller en nog hoër huisie agter hom verbind. Dié huis het slegs drie kamers wat bo-op mekaar geleë is. Tussen die twee huise is die nou kurktrekkertrap toe ingedruk. Al is ek hoe vinnig is Betsie voor my by die deur. ’n Massa blomme vul die hele deuropening. Eers toe Betsie die blomme neem, verskyn die seuntjie wat hulle kom aflewer het. “Lekker dag vir die partytjie, nè, Juffrou?” sê-vra hy en probeer by die blomme verby loer, so asof hy verwag om reeds koek en koffie op die tafel te sien. Later vandag sal hy wel partytjie toe kom, soos feitlik die hele Haarlem. Ek en Betsie soek na ’n kaartjie in die ruiker. “Pickwick!” roep ons tegelyk hard uit. Pickwick is ’n skatryk klant wat nie net die duurste horlosies by Pappa koop nie, maar dikwels ook opstap na die woongedeelte van ons huis. Sy regte naam is Herman Sluring. Pickwick is die naam wat ek en Betsie vir hom gee wanneer ons oor hom praat omdat hy op ’n druppel water lyk soos die illustrasie in ons weergawe van Dickens se boek oor dié karakter. Herman Sluring is sonder enige twyfel die lelikste man in Haarlem. Kort, geweldig oorgewig en met ’n kop so glad soos ’n Hollandse kaas. Boonop het hy twee oë wat so skeel na buite kyk dat ’n mens nooit weet of hy vir jou of vir iemand anders kyk nie. Maar net so lelik soos hy is, so goedhartig en vrygewig is hy. Die seuntjie het die blomme na die huis se sydeur gebring, die deur wat ons as gesin gebruik en wat op ’n stegie uitloop. Vanuit die portaaltjie dra ek en Betsie
die blomme winkel toe. Eers deur die werkkamer waar die horlosies en klokke herstel word. Daar staan die hoë werkbank waaroor Pappa al soveel jare lank gebukkend staan, besig met sy delikate en noukeurige handewerk wat as die heel beste in Holland bestempel word. In die middel van die kamer staan my werkbank, en langs myne dié van Hans, die leerling-horlosiemaker. Teen die muur staan ou Christoffels se werkbank. Anderkant die werkkamer is die klante se deel van die winkel met die glaskas vol horlosies. Al die muurhorlosies slaan sewe-uur toe ek en Betsie die blomme daar indra en rondkyk op soek na die beste plek om hulle neer te sit. Vanaf my kinderdae is ek versot daarop om by dié vertrek in te stap, want dit is waar honderde tik-tok-stemme my verwelkom. Dit is nog donker in die winkel, want die vensterluike aan die straatkant is nog toe. Ek sluit die straatdeur oop en stap in Barteljorisstraat uit. Ook die ander winkels se luike is nog toe: die brilmaker, die damesklerewinkel, die bakkery en Weil se pelswinkel oorkant die straat. Alles is nog doodstil. Ek stoot ons luike oop en gaan bewonder dan ’n rukkie die vensteruitstalling waarop Betsie en ek uiteindelik ooreengekom het. Ons het nog altyd oor dié venster gestry. Ek wil soveel moontlik van ons voorraad in die venster uitstal, maar Betsie hou vol dat twee of drie pragtige horlosies op sy of satyn baie eleganter en aanlokliker sal lyk. Die uitstalling wat nou in die venster is, stel ons albei egter tevrede: Daar is ’n hele versameling horlosies, klokke en sakhorlosies, almal minstens honderd jaar oud. Ons het al die horlosies spesiaal vir dié geleentheid by vriende en versamelaars van antieke ware oral in die stad geleen. Vandag is immers die winkel se honderdste verjaarsdag. Op dié dag in Januarie 1837 het Pappa se pa sy naambordjie in die venster neergesit: Ten Boom Horlosies. Die afgelope tien minute al, en met ’n algehele verontagsaming van die akkuraatheid van die tyd wat verbytik, lui die kerkklokke van Haarlem om aan te kondig dit is nou sewe-uur. ’n Halwe blok weg, op die dorpsplein, slaan die klok van Sint Bavo plegtig sewe keer. Ten spyte van die koue Januarie-dagbreek talm ek in die straat om die slae te tel. Almal in Haarlem besit natuurlik nou radio’s, maar ek kan nog goed onthou die tyd toe die ganse lewe van die stad volgens Sint Bavo se tyd verloop het. Net die mans op die treine en ander wat die presiese tyd moes hê, het na ons toe gekom om die tyd op die “astronomiehorlosie” te lees. Elke week het Pappa die trein na Amsterdam gehaal om die tyd
van die Vloot se observatorium af terug te bring. Die feit dat die astronomiehorlosie nooit meer as twee sekondes per week van sy tyd verskil het nie, het hom met trots gevul. Dié horlosie staan nou nog daar. Ek sal dit sien wanneer ek terugstap tot in die winkel. Hoog en glansend op sy betonvoetstuk, maar sy roemrykheid effens verdof. Die deurklokkie weerklink weer in die laan. Nog blomme. Só hou dit ’n uur lank aan… groot ruikers, klein ruikers, noukeurig gerangskikte blomme, en blomme in kleipotjies uit mense se tuine. Want al is die partytjie vir die winkel bedoel, is die blomme ’n teken van ’n hele stad se toegeneentheid tot Pappa. “Haarlem se waardige heer” noem hulle hom, en hulle is vasbeslote om vandag hulle respek aan hom te bewys. Toe die winkel en die werkkamer oorlopens vol ruikers is, dra ek en Bessie van die blomme na die twee kamers bokant die winkel. Al is dit reeds twintig jaar ná haar dood, is hierdie kamers nog altyd vir ons “tannie Jans se kamers”. Tannie Jans was Mamma se oudste suster, en haar teenwoordigheid sluimer steeds in die donker, massiewe meubels wat sy agtergelaat het. Betsie sit ’n pot vol tulpe neer, staan effens weg en gee dan ’n vreugdevolle uitroep. “Corrie, kyk net hoe helder dit die vertrek op!” Arme Betsie. Die Beje is so dig omring deur ander huise dat die plante wat sy elke lente op die vensterbanke probeer kweek nooit ooit blom nie. Om kwart voor agt daag Hans, die leerling-horlosiemaker, op en om agtuur klop Toos, ons verkoopsdame-boekhoudster, aan die deur. Toos is ’n suurgesig, ’n onvergenoegde skepsel. Haar vlambare humeur het dit nog altyd vir haar onmoontlik gemaak om ’n werk te behou, totdat sy tien jaar gelede vir Pappa kom werk het. Sy minsaamheid en hoflikheid het haar ontwapen en sag gemaak. Al sou sy eerder dood neerval as om dit te erken, het sy hom net so innig lief as wat sy ’n hekel aan die res van die wêreld het. Ek en Betsie vra vir Hans en Toos om die deur oop te maak elke keer as die klokkie lui, en gaan dan boontoe om ontbyt te maak. Net drie plekke aan tafel, dink ek terwyl ek die borde neersit. Die eetkamer is in die agterste huis, vyf trappies hoër as die winkel, maar laer as tannie Jans se kamers. Vir my is hierdie vertrek met sy enkele venster wat op die stegie afkyk die hart van ons huis. Toe ek klein was en ’n kombers oor die tafel gegooi het, het dit my tent of ’n seerowergrot geword. As skoolkind het ek my huiswerk
daar gedoen. In hierdie vertrek het Mamma op wintersaande Dickens hardop vir my voorgelees, terwyl die steenkool in die steenvuurherd sis en ’n rooi gloed gooi oor die teël wat verkondig: “Jesus is Oorwinnaar.” Ons gebruik nou net een hoek van die tafel, ek, Pappa en Betsie, maar vir my is die res van die gesin altyd daar by ons. Mamma se stoel staan nog daar, en die drie tannies se plekke oorkant hare. (Nie net tannie Jans s’n nie, maar ook Mamma se ander twee susters het by ons gebly.) Langs my sit my ander suster, Nollie, en Willem, die enigste seun in die gesin, langs Pappa. Nollie en Willem woon nou al jare lank in hulle eie huise en Mamma en die tannies is oorlede, maar ek sien hulle steeds daar aan tafel. Natuurlik het hulle stoele nie lank leeg gebly nie. Pappa kon nooit ’n huis sonder kinders verdra nie. Elke keer wanneer hy gehoor het van ’n behoeftige kind sonder ’n huis, het ’n nuwe gesig aan ons tafel verskyn. Op ’n manier het Pappa uit die opbrengs van sy horlosiewinkel, wat nooit baie geld gemaak het nie, vir nog elf kinders kos en klere gegee en hulle versorg nadat sy eie vier kinders groot was. Maar nou is daardie elf ook reeds volwassenes. Sommige het getrou of agter ’n werk aan getrek. Daarom dek ek net drie plekke. Betsie bring die koffie vanuit die kombuisie wat nouliks meer as ’n kas langs die eetkamer is. Dan gaan haal sy die brood uit die buffet se laai. Sy is nog besig om dit op die tafel uit te pak toe ons Pappa se voetstappe op die trap hoor. Hy loop nou al heelwat stadiger op die draaitrap, maar steeds is hy stiptelik, net soos een van sy horlosies. Om op die kop agtuur kom hy by die eetkamer in, soos elke oggend sover ek kan onthou. “Pappa!” roep ek en soen hom. Die geur van sigare wat altyd aan sy baard kleef, kielie in my neus. “’n Sonskyndag vir die partytjie!” Pappa se baard en hare is nou al net so wit soos ons heel beste tafeldoek wat Betsie vir dié spesiale dag oor die tafel gegooi het. Sy blou oë agter die ronde bril met die dik glase is egter nog net so liefdevol en vrolik soos altyd. Vanoggend kyk hy na ons met suiwer tevredenheid. “Corrie, my skat! My liefste Betsie! Hoe vrolik en pragtig lyk julle al twee vandag!” Hy laat sak sy kop toe hy gaan sit en vra die seën oor die brood. “Julle ma,” gaan hy dan dadelik voort, “sou tog so baie van al dié nuwe modes gehou het. Dit sou
vir haar soveel vreugde gegee het om julle twee so pragtig aangetrek te sien.” Ek en Betsie kyk stip af na ons koffie om nie te lag nie. Ons “nuwe modes” maak ons niggies radeloos. Hulle probeer ons altyd sover kry om helderder kleure, korter rompe en laer halslyne te dra. Hoe konserwatief ons ook al is, Mamma self het nooit iets so helder soos my maroen rok en Betsie se donkerblou rok besit nie. In haar tyd het getroude vroue – en ongetroude vroue “van ’n sekere ouderdom” – swart gedra, van die ken af tot op die grond. Ek het haar en haar susters nooit in enige ander kleur as swart gesien nie. “Hoe baie sou Mamma tog nie van alles vandag gehou het nie!” sê Betsie. “Onthou julle hoe lief sy vir spesiale geleenthede was?” Mamma kon koffie op die stoof en ’n koek in die oond hê vinniger as wat dit die meeste mense kos om “Veels geluk” te sê. Omdat sy byna almal in Haarlem geken het, veral die armes, die siekes en die verwaarloosdes, was daar byna nie een dag in die jaar wat nie vir iemand spesiaal bedoel was nie. Soos sy altyd met blink oë gesê het: “Dis ’n baie spesiale geleentheid.” Lank sit ons so met ons koffie en kyk terug op die verlede, soos ’n mens veronderstel is om op spesiale dae te doen. Ons kyk terug op die tyd toe Mamma nog geleef het, en dan nog verder terug. Na die tyd toe Pappa ’n knapie was wat in dieselfde huis grootgeword het. “Ek is in hierdie einste kamer gebore,” sê hy asof hy dit nie al honderd keer vir ons vertel het nie. “Natuurlik was dit nie tóé die eetkamer nie, maar ’n slaapkamer. Die bed was in ’n kas in die muur ingebou, en daar was geen vensters en ligte of lug in die kamer nie. Ek was die eerste baba wat bly leef het. Ek weet nie hoeveel babas voor my hier gebore is nie, maar hulle almal het gesterf. Julle sien, my ma het tering gehad, en die mense het destyds nog nie geweet van besmette lug of dat babas van siek mense weggehou moet word nie.” Vandag is ’n dag vir herinnerings. ’n Dag om die verlede op te roep. Hoe sou ons ooit kon raai terwyl ons so bymekaar sit – twee ongetroude, middeljarige vroue en ’n bejaarde man – dat ons in die plek van hierdie herinnerings nuwe avonture sou beleef waarvan ons nooit eens sou kon droom nie? Avontuur en smart, hemel en hel, het net om die hoek op ons gewag. En ons het dit nie geweet nie. O Pappa! Betsie! As ek maar geweet het, sou ek voortgegaan het? Sou ek die dinge gedoen het wat ek gedoen het?
Maar hoe kon ek weet? Hoe kon ek weet, hoe kon ek my voorstel, dat dié man met sy gryskop vir wie al die kinders in Haarlem “Oupa” sê deur vreemdelinge in ’n naamlose graf gesmyt sou word? En Betsie met haar hoë kantkragie en haar gawe om skoonheid rondom haar te skep… Hoe kon ek my voorstel dat sy, vir my die dierbaarste mens op aarde, kaal voor ’n kamer vol mans sou moes staan? Op hierdie dag in ons eetkamer is sulke gedagtes nie eens in die minste denkbaar nie. Pappa staan op en gaan haal die Bybel met sy koperskarniertjies van die rak af. Net toe klop Toos en Hans aan die deur en stap in. Huisgodsdiens elke oggend om halfnege vir almal in die huis is nog ’n spil waarom die lewe in die Beje draai. Pappa maak die groot Boek oop, en ek en Betsie hou asem op. Vandag van alle dae, wanneer daar so baie is om te doen, sal hy tog sekerlik nie ’n hele hoofstuk lees nie, of hoe? Maar Pappa blaai na die Evangelie van Lukas, na die presiese plek waar ons gister opgehou lees het. Ai, en Lukas hét sulke lang hoofstukke. Met sy vinger op die plek kyk Pappa op. “Waar is Christoffels?” vra hy. Christoffels is die derde en enigste ander werker in die winkel, ’n krom, verskrompelde mannetjie wat ouer as Pappa lyk al is hy eintlik tien jaar jonger. Ek onthou die dag ongeveer ses of sewe jaar gelede toe hy die eerste keer by die winkel ingeloop het. Hy was so verflenter en het so armsalig gelyk dat ek gedink het hy is een van die bedelaars wat vir hom ’n bord kos by die Beje wou kom haal. Ek was op die punt om hom kombuis toe te stuur waar Betsie ’n pot sop op die stoof aan die gang gehad het, toe hy met groot waardigheid aankondig dat hy ’n vaste werk oorweeg en sy dienste vir ons kom aanbied. Ons ontdek toe dat Christoffels ’n byna uitgestorwe beroep beoefen. Hy is ’n rondreisende horlosiekenner wat die land te voet deurkruis en die hoë slingerhorlosies – die trots van elke Hollandse plaashuis – herstel en reg instel. As ek verstom was oor die vername houding van dié toiingrige mannetjie, was ek nog meer verbaas toe Pappa hom dadelik aanstel. “Hulle is die beste horlosiemanne wat ’n mens kry,” het hy later vir my gesê. “Daar is nie ’n enkele soort herstelwerk wat nie deur dié swerwende regmakers se hande gaan nie, en dit boonop met die paar stukkies gereedskap wat hulle saam met hulle dra.”
Die waarheid hiervan is dan ook deur die jare heen bevestig. Mense van oral in Haarlem het hulle horlosies na Christoffels toe gebring. Wat hy met sy salaris gedoen het, kon ons nog nooit vasstel nie, want hy lyk nog altyd net so verslete. Pappa het aanvanklik kort-kort geskimp dat hy netjieser sal aantrek, altans, in soverre hy dit kon waag, want naas Christoffels se toiingrigheid was sy ander uitstaande eienskap sy trots. Later het Pappa maar sy pogings laat vaar. Nou, vir die heel eerste keer, is Christoffels laat. Pappa vryf sy brilglase met sy servet skoon en begin lees. Dit voel of sy diep stem vol liefde oor die woorde bly hang. Hy is reeds onderaan die bladsy toe ons Christoffels se skuifeltreë op die trap hoor. Die deur gaan oop… en ons almal snak na asem. Daar staan Christoffels, netjies uitgevat in ’n splinternuwe swart pak, ’n nuwe geruite onderbaadjie, ’n sneeuwit hemp, ’n geblomde das en ’n gestyselde boordjie. Ek skeur my oë so gou moontlik van dié gesig weg, want die uitdrukking op Christoffels se gesig verbied ons om enigiets ongewoon raak te sien óf enigiets kwyt te raak. “Christoffels, my dierbare kollega,” sê Pappa op sy formele en outydse manier, “wat ’n vreugde om jou op hierdie – h’m – heuglike dag te sien.” Toe lees hy haastig verder uit die Bybel. Voordat hy die einde van die hoofstuk kan bereik, lui al twee die deurklokkies gelyk, die winkelklokkie aan die straatkant én die gesinsklokkie in die stegie. Betsie draf weg om nog koffie te gaan maak en tertjies in die oond te sit, terwyl ek en Toos vinnig na die onderskeie deure toe stap. Dit lyk asof elkeen in Haarlem die eerste een wil wees wat Pappa se hand skud. Sommer gou is daar ’n onafgebroke stroom gaste wat met die nou trap op na tannie Jans se kamers drentel, waar Pappa feitlik deur al die blomme verdwerg word. Ek is besig om ’n bejaarde gas met die steil trap op te help toe Betsie my aan die arm gryp. “Corrie! Ons gaan Nollie se koppies nodig hê, sommer nou dadelik! Hoe kan ons…?” “Ek sal dit gou gaan haal,” bied ek aan. Ons suster, Nollie, en haar man sal vanmiddag kom, sodra hulle ses kinders uit die skool kom. Ek vlieg met die trap af, gryp my jas en drafstap na my fiets wat agter die deur staan. Net toe ek die fiets oor die drumpel stoot, hoor ek Betsie
sag maar ferm sê: “Corrie, jou nuwe rok!” Ek swaai om en vlieg met die trap op na my kamer toe, trek my oudste romp aan en val dan in die pad oor die stamperige klipstrate heen. Ek hou daarvan om met my fiets na Nollie se huis toe te ry. Sy en haar man bly ongeveer twee kilometer van die Beje af, buite die saamgedrukte ou middelste deel van die stad. By hulle is die strate wyer en meer reguit; selfs die lug lyk groter. Ek trap my fiets oor die dorpsplein, oor die Grote Houtbrug oor die kanaal en al met die Wagenweg langs. Die hele tyd verlustig ek my in die flouerige wintersonnetjie. Nollie bly by Bos- en Hovenstraat, ’n blok identiese skakelhuise met wit gordyne en potplante in die vensters. Hoe kon ek weet, terwyl ek om die hoek swenk, dat ek op ’n somersdag terwyl die hiasinte in die beddings daar naby ryp en bruin is, hier met my fiets sou rem, dat my hart wild in my keel sou klop, dat ek dit nie durf waag het om nader aan die huis te gaan nie, omdat ek te bang sou wees vir wat agter Nollie se gestyfde gordyne gebeur? Ek woerts tot op die sypaadjie en storm by die deur in sonder om te klop. “Nollie, die Beje is al propvol mense! Jy moet dit sien! Ons het jou koppies nóú nodig!” Nollie kom uit die kombuis, haar mooi, ronde gesig rooi van die koekbakkery. “Hulle staan al klaar daar by die deur. O, ek wens ek kon nou al saam met jou teruggaan, maar ek het nog ’n hele klomp koekies om te bak. En ek het vir Flip en die kinders belowe om vir hulle te wag.” “Julle almal kom, nè?” “Ja, Corrie, Peter sal daar wees,” sê Nollie terwyl sy die koppies in die fietssakke pak. Soos ’n pligsgetroue tannie probeer ek altyd ewe lief wees vir al my broers- en susterskinders. Maar Peter… wel, Peter is Peter. Op dertien is hy ’n musikale wonder, ’n karnallie en die trots in my lewe. “Hy’t selfs ’n spesiale liedjie geskryf om hierdie dag te gedenk,” vertel Nollie. “Nou ja, dié sak vol koppies sal jy in jou hand moet vashou. Ry dus maar versigtig.” Die Beje is nog voller toe ek terug is by die huis. Die stegie is so vol fietse dat ek myne maar op die hoek moet laat staan. Die burgemeester van Haarlem is daar in sy manelpak met sy goue kettinghorlosie, asook die posbode, die trembestuurder
en tientalle konstabels van Haarlem se polisiestasie net om die hoek. Ná middagete begin die kinders aankom en, soos die kinders maar altyd maak, gaan hulle pylreguit na Pappa toe. Die ouer kinders sit op die vloer rondom hom, en die kleintjies klim sommer op sy skoot. Buiten sy vonkelende oë en lang baard wat altyd na sigare ruik, tik Pappa ook mos nog. Horlosies wat op ’n rak lê, loop anders as horlosies wat jy met jou saamdra, en Pappa dra dié wat hy moet regstel altyd met hom saam. Al sy baadjies het vier groot binnesakke, elk met hakies vir tientalle horlosies. Só kan hy, waar hy ook al gaan, die vrolike gewoer van honderde draaiende ratjies geniet. Ek kyk hoe hy, met ’n kind op elke knie en nog tien rondom sy voete saamgepak, sy swaar opwensleutel in die vorm van ’n kruis uit ’n ander sak haal. Elk van die vier punte van die kruisvormige sleutel is vir ’n spesifieke horlosie gefatsoeneer. Met ’n vinnige beweging van sy vingers laat hy die sleutel blitssnel tol, skitterend en blink… Betsie gaan staan in die deur met ’n skinkbord vol koek. “Hy weet nie eens daar is ook ander mense in die vertrek nie,” sê sy. Terwyl ek ’n klomp vuil borde met die trap af dra, verklap ’n gilletjie aan my dat Pickwick opgedaag het. Ons wat so lief is vir hom, vergeet gewoonlik wat ’n groot skok dit vir vreemdelinge is om hom die eerste keer te sien. Ek stap vinnig deur toe, stel hom vinnig aan die vrou van ’n Amsterdamse groothandelaar voor, en neem hom dan boontoe. Hy laat sy reusagtige liggaam in ’n stoel langs Pappa neersak, kyk met die een oog op na die plafon en met die ander een na my. “Vyf klontjies, asseblief,” sê hy. Arme Pickwick! Hy is net so lief vir kinders soos Pappa, maar terwyl kinders sommer dadelik van Pappa hou, moet Pickwick hulle altyd oorreed om na hom toe te kom. Hy ken egter een toertjie wat nooit misluk nie. Ek bring vir hom sy koppie koffie waarin die suiker dik lê en hou hom dop terwyl hy met ’n ondeunde gesig om hom rondkyk. “Maar my liewe Cornelia!” roep hy uit. “Hier is dan nie ’n tafel nie! Waarop moet ek my koffie neersit?” Hy loer met een wydgerekte oog om seker te maak die kinders kyk vir hom. “Wel, dis nou gelukkig dat ek my eie tafel saamgebring het.” En met dié woorde sit hy die koppie en piering op sy ronde maag neer. Ek moet nog die kind ontmoet wat hierdie toertjie kan weerstaan. En inderdaad, sommer gou is daar ’n kring grootoogkinders rondom hom. ’n Rapsie later daag Nollie en haar gesin op. “Tannie Corrie!” groet Peter my
onskuldig. “Jy lyk dan nie 100 jaar oud nie.” Voordat ek hom ’n speelse hou kan gee, gaan sit hy voor tannie Jans se regop klavier en vul die ou huis met melodieë. Mense roep van alle kante versoeke uit – gewilde liedjies, ’n keur uit Bach se korale, gesange – en gou sing hulle die refreine saam. Hoe baie van ons is nie op dié vrolike middag saam sonder om te besef dat ons later in totaal ander omstandighede weer sou ontmoet nie. Peter, die konstabels, dierbare lelike Pickwick – ons almal is saam hier. Net my broer Willem en sy gesin kort. Ek wonder hoekom hulle so laat is. Willem en sy vrou en kinders bly in die dorpie Hilversum, 48 kilometer van ons af. Tog moes hulle al hier gewees het. Skielik raak die musiek stil en Peter se stem klink sissend van die klavierstoeltjie af op. “Oupa! Hier kom die mededingers!” Ek kyk deur die venster. Mnr en mev Kan, eienaars van die enigste ander horlosiewinkel in die straat, het so pas by die stegie ingedraai. Volgens Haarlem se standaarde is hulle nuwelinge, want hulle het maar eers in 1910 in Barteljorisstraat kom woon. Hulle is dus nog maar net 27 jaar daar. Maar omdat hulle heelwat meer horlosies as ons verkoop, beskou ek Peter se opmerking as heeltemal gepas. Pappa is egter ontsteld. “Nie mededingers nie, Peter,” berispe hy hom. “Kollegas.” Hy tel die kinders vinnig van sy skoot af en stap haastig na die bokant van die trap om die Kans te groet. Pappa hanteer mnr Kan se herhaaldelike besoeke aan die winkel as vriendskaplike kuiertjies van ’n gewaardeerde vriend. “Kan Pappa dan nie sien wat hy doen nie?” vaar ek altyd uit wanneer mnr Kan weer vertrek het. “Hy kom net uitvind hoeveel ons vir ons horlosies vra sodat hy syne goedkoper kan verkoop!” In sy vertoonvenster adverteer mnr Kan sy horlosies altyd vir vyf gulde minder as ons s’n. Maar elke keer verhelder Pappa se gesig net met ’n soort aangename verbasing, soos altyd wanneer hy aan die sakekant van ’n horlosiewinkel dink. “Maar, Corrie, dan sal die mense geld spaar as hulle by hom koop.” Tog voeg hy altyd nadenkend by: “Ek wonder hoe hy dit regkry.” Pappa het net so ’n skrapse kennis van sakevernuf as wat sy pa voor hom gehad
het. Dae lank swoeg hy om ’n horlosie te herstel, en vergeet dan geheel en al om die rekening te stuur. Hoe skaarser en duurder die horlosie is, hoe minder kan hy in terme van geld daaraan dink. “’n Mens behoort eintlik te betaal vir die voorreg om aan so ’n horlosie te kan werk,” sê hy net. Sy verkooptegnieke is eintlik nog erger. Vir die eerste tagtig jaar van die winkel se bestaan het Oupa en Pappa die luike aan die straatkant stiptelik om sesuur toegetrek. Eers toe ek twintig jaar gelede by die onderneming betrokke geraak het, het ek opgemerk dat ’n menigte wandelaars saans met die nou sypaadjies langs drentel. Ek het opgelet dat die ander winkels hulle vensters oop en helder verlig hou. Toe ek dit onder Pappa se aandag bring, was hy skoon oorstelp van blydskap. Hy het my omhels asof ek ’n fantastiese ontdekking gemaak het. “En as die mense die horlosies sien, kan hulle dit dalk net die volgende dag kom koop. Corrie, my hartjie, hoe slim is jy tog!” Ek sien mnr Kan is besig om sy pad na my toe oop te baan met ’n bord vol koek en ’n mond vol komplimente. Vol skuldgevoelens oor my afgunstige gedagtes, benut ek die samedromming van so baie mense en ontsnap met die trap af. Daar is nog meer mense in die werkkamer en winkel as in die boonste vertrekke. Hans neem koek in die agterste kamer rond, en Toos bedien die mense in die voorste vertrek. Om haar mond is ’n glimlag, altans so na aan ’n glimlag wat as haar mond, wat altyd na onder buig, dit toelaat. En Christoffels… wel, hy het sowaar “gegroei”. Dit is feitlik onmoontlik om die krom en verslete mannetjie te herken in die glansryke figuur wat die nuwe aankomelinge formeel by die deur groet, en dit dan onverbiddelik opvolg met ’n toer deur die winkel. Dit is baie duidelik die heel grootste dag van sy lewe. Die hele kortstondige wintermiddag kom die mense op ’n streep na ons toe, almal wat vriende van Pappa is. Oud en jonk, ryk en arm, geleerde mans en ongeletterde diensmeisies – vir Pappa is hulle egter almal eenders. Dit is sy geheim – nie dat hy die verskille tussen mense nie raaksien nie, maar dat hy nie eens besef dit bestaan nie. Steeds sien ek vir Willem nêrens nie. Ek neem afskeid van ’n paar gaste by die deur en kyk op en af in Barteljorisstraat. Al is dit nog maar vieruur begin die winkelligte in die Januarie-skemer brand. Ek het nog heelwat kleinsusaanbidding vir my ouboet, wat vyf jaar ouer is as ek. Hy is ’n geordende predikant en die enigste Ten Boom wat ooit op universiteit was. Willem sien baie dinge raak, glo ek. Hy weet wat in die wêreld aangaan.
Eintlik wens ek dikwels Willem kan dinge nie altyd so helder sien nie, want baie van wat hy sien, maak my bang. ’n Volle tien jare gelede, reeds in 1927, het Willem in sy doktorale proefskrif, wat hy in Duitsland geskryf het, beweer dat ’n afgryslike euwel besig is om in daardie land wortel te skiet. Daar by die universiteit self word die saad gesaai vir ’n minagting van menselewens soos die wêreld nog nooit gesien het nie. Die enkeles wat sy proefskrif gelees het, het net gelag. Maar nou lag niemand meer vir Duitsland nie. Die meeste goeie horlosies kom van daar. ’n Hele paar firmas met wie ons al jare lank sake doen, het feitlik oornag en baie geheimsinnig verdwyn. Willem meen dit is deel van ’n doelbewuste, grootskaalse optrede teen die Jode. Elke firma wat verdwyn het, het immers aan Jode behoort. As die hoof van die Nederduitsch Hervormde Kerk se program om die Jode te bereik, bly Willem op hoogte van al hierdie dinge. Liewe Willem, dink ek toe ek by die huis instap en die deur toestoot. Hy is net so ’n goeie “verkoopsman” van die kerk as wat Pappa van sy horlosies is. As hy een enkele Jood in twintig jaar tot bekering gebring het, het ek beslis nie daarvan gehoor nie. Willem probeer nie mense verander nie; hy bedien hulle net. Hy het genoeg geld gespaar om ’n tehuis vir bejaarde Jode in Hilversum te bou – eintlik vir bejaardes van alle gelowe, want Willem is teen enige skeidsmure tussen mense. Die afgelope paar maande is die tehuis egter oorstroom deur jonger inwoners – almal Jode, en almal uit Duitsland. Willem en sy gesin het al selfs hulle eie woonruimte prysgegee en slaap in ’n gang om almal te kan huisves. Steeds droog die stroom verskrikte, daklose vreemdelinge nie op nie… en saam met hulle kom stories van ’n groeiende waansin. Ek stap op kombuis toe waar Nollie so pas ’n vars pot koffie gemaak het. Ek neem dit en dra dit na tannie Jans se kamers toe. “Wat wil hy hê?” vra ek vir ’n groep mans wat om die koektafel kom saamdrom toe ek die pot koffie neersit. “Hierdie man van Duitsland, wil hy oorlog maak?” Ek weet dis nie eintlik partytjiepraatjies nie, maar op die een of ander manier dwing my gedagtes aan Willem my altyd om oor “moeilike onderwerpe” te praat. ’n Ysige stilte sak om die tafel neer en versprei vinnig deur die vertrek.
“Wat maak dit saak?” verbreek ’n stem skielik die stilte. “Laat die groot lande dit uitbaklei. Dit sal ons nie raak nie.” “Dis waar,” sê ’n horlosieverkoopsman. “Die Duitsers het ons in die Groot Oorlog met rus gelaat. Dis tot hulle voordeel dat ons neutraal bly.” “Jy kan maklik praat,” roep ’n man van wie ons altyd horlosie-onderdele koop. “Jou voorraad kom uit Switserland. Wat van ons? Wat maak ek as Duitsland oorlog verklaar? ’n Oorlog kan my hele onderneming kelder.” Net toe stap Willem by die vertrek in, gevolg deur Tine, sy vrou, en hulle vier kinders. Alle oë is egter vasgenael op die figuur wie se arm Willem stewig vashou. Die man is ’n Jood in sy vroeë dertigerjare. Hy dra die tipiese swart breërandhoed en lang swart jas. Wat egter almal se oë gevange hou, is die man se gesig. Hy het gruwelik verbrand. Voor sy regteroor hang ’n kroeserige grys krulletjie, soos die hare van ’n stokou man. Die res van sy baard is heeltemal weg; net ’n groot rou seer het oorgebly. “Herr Gutlieber,” kondig Willem in Duits aan. “Hy het net vanoggend in Hilversum aangekom. Herr Gutlieber, ontmoet my pa.” “Hy is in Duitsland op ’n melkwa uit,” vertel Willem in Nederlands. “Hulle het hom op ’n straathoek voorgekeer – tienerseuns van München – en sy baard aan die brand gesteek.” Pappa staan uit sy stoel op en skud die vreemdeling se hand verwelkomend. Ek bring vir hom ’n koppie koffie en ’n bord met Nollie se koekies. Hoe dankbaar is ek nou dat Pappa aangedring het dat sy kinders Duits en Engels byna net so gou en net so goed soos Nederlands moes leer praat. Herr Gutlieber gaan sit met stokkerige bewegings op die rand van sy stoel en hou sy oë op die koppie op sy skoot gerig. Ek trek ’n stoel tot langs hom en praat ’n bietjie onnodige onsin oor die ongewone weer wat ons in Januarie beleef. Rondom ons begin die mense weer gesels en die gegons van stemme styg en daal.
“Bullebakke!” hoor ek die horlosieverkoopsman sê. “Gespuis! Dit gaan in elke land so. Die polisie sal hulle nog kry. Julle sal sien. Duitsland is ’n beskaafde land.”
Só val die skaduwee oor ons op daardie wintermiddag van 1937, maar dit rus liggies op ons. Niemand vermoed eens dat hierdie wolkie so groot sou groei dat dit die hele lug sou verdonker nie, dat ons elkeen opgeroep sou word om in daardie duisternis ’n rol te speel nie: ek, Pappa en Betsie; mnr Kan en Willem; selfs die koddige ou Beje met sy vloere op ongelyke vlakke en sy horingoue hoeke. Toe die laaste gaste vertrek het, klim ek met die trap op na my kamer toe. My gedagtes bly dwaal na die verlede. Op my bed lê die maroen rok. Ek het skoon vergeet om dit weer aan te trek. Ek het nog nooit juis omgegee vir mooi aantrek nie, dink ek. Selfs toe ek jonk was… Tonele uit my kinderdae verrys voor my, eienaardig naby en dringend. Vandag weet ek sulke herinnerings is die sleutel tot die toekoms, nie tot die verlede nie. Ek weet die ervarings van ons lewe, as ons God toelaat om dit te gebruik, word die geheimsinnige en perfekte voorbereiding vir die taak wat Hy vir ons gee om uit te voer. Daardie aand het ek dit egter nie geweet nie, ook nie dat daar ’n nuwe toekoms was waarvoor ek voorberei moes word in ’n lewe so alledaags en voorspelbaar soos myne nie. Toe ek in my bed lê, daar bo in die huis, het ek net geweet dat sekere oomblikke van lank gelede vir my helder uitgestaan het teen die dowwe herinnerings aan vergange jare. Eienaardig skerp en naby was hierdie oomblikke, asof hulle nog nie voltooi was nie, asof hulle nog iets gehad het om te sê…
2
Almal bymekaar
Dit is 1898. Ek is ses jaar oud. Betsie laat my voor die spieël teen die hangkas staan en lees my die leviete voor. “Kyk net hoe lyk jou skoene! Elke tweede knoop is los. En hoe kan jy daardie flenterkouse op jou heel eerste skooldag dra? Kyk net hoe mooi lyk Nollie.” Ek en Nollie slaap saam in die kamer bo in die Beje. Ek kyk na my suster wat agt jaar oud is. En sowaar! Haar skoene se knope is netjies vasgemaak. Traag trek ek my skoene uit terwyl Betsie in die klerekas rondkrap. Op dertien is Betsie al vir my ’n grootmens. Sy lyk natuurlik altyd ouer as wat sy regtig is, want sy kan nie hardloop en rowwe speletjies speel soos die ander kinders nie. Betsie is met skadelike bloedarmoede gebore. Terwyl ons ander aanaan of met hoepels speel of in die winter skaatsresies op die bevrore kanale hou, sit Betsie en doen vervelige grootmensdinge soos om te borduur. Nollie speel natuurlik net so geesdriftig saam soos al die ander kinders en sy is nie veel ouer as ek nie. Dis hoekom dit vir my net te onregverdig is dat sy altyd alles reg doen. “Betsie,” sê Nollie skielik ernstig, “ek gaan nié daardie groot, lelike hoed skool toe dra net omdat tannie Jans dit gekoop het nie. Verlede jaar het sy so ’n lelike gryse gekoop en hierdie jaar s’n is nóg leliker.” Betsie kyk simpatiek na haar. “Maar jy kan nie sonder ’n hoed skool toe gaan nie. En jy weet ons kan nie ’n nuwe een bekostig nie.” “Ons hoef nie een te koop nie!” Met ’n angstige blik deur se kant toe val Nollie op haar knieë neer. Sy voel-voel onder die enkelbed rond, die enigste bed wat in ons kamertjie inpas, en trek ’n
ronde hoededoos uit. Toe sy die deksel oplig, lê daar die fraaiste hoedjie wat ek nog ooit gesien het. Dit is van pels en het ’n blou satynlintjie om dit onder jou ken vas te bind. “Ag, hoe pragtig!” Betsie tel die hoedjie eerbiedig op en hou dit in die skrefie lig wat sy pad oor die omringende dakke na die kamer oopgespook het. “Waar op aarde het jy…” “Mev Van Dyver het dit vir my gegee.” Die Van Dyvers besit die hoedewinkel twee deure verder af in die straat. “Sy’t gesien hoe ek daarna kyk. Toe bring sy dit hierheen nadat tannie Jans daai een gekoop het,” sê Nollie en wys met haar vinger na iets bo-op die klerekas. ’n Bruin breërandkappie met ’n tros ligpers fluweelrose wat in elke opsig die stempel dra van die persoon wat dit gekies het. Tannie Jans, Mamma se oudste suster, het by ons kom bly toe haar man oorlede is. Volgens haar wou sy “haar laaste paar dae” hier deurbring, al was sy toe nog maar net iets in die veertig. Haar aankoms hier by ons het die lewe baie ingewikkeld gemaak. Ons huis was reeds oorvol omdat Mamma se ander twee susters, tannie Bep en tannie Anna, toe ook al by ons ingetrek het. Om alles te vererger het tannie Jans meubels met haar saamgebring, alles natuurlik gans te groot vir die Beje se kamertjies. Tannie Jans het die twee kamers op die tweede verdieping, direk bokant die horlosiewinkel en die werkkamer, dadelik vir haar toegeëien. In die eerste kamer skryf sy die vurige Christelike traktaatjies waarvoor sy oor die hele Holland bekend is. In die tweede kamer ontvang sy op ’n gasvrye manier die welgestelde dames wat haar werk ondersteun. Tannie Jans glo ons toestand in die hiernamaals hang af van die hoeveelheid goeie dinge wat ons hier op aarde doen. Sy het net ’n bitter klein deeltjie van haar skryfkamer afgeskort vir ’n slaapkamer. Dit is net groot genoeg vir ’n bed. Die dood, sê sy dikwels, wag net vir die regte oomblik om haar van haar werk af weg te ruk. Daarom hou sy haar ure van rus so kort en prakties moontlik. Ek kan nie die lewe in die Beje onthou voordat tannie Jans daar aangekom het nie. Ek kan nie onthou aan wie die twee kamers voorheen behoort het nie. Bokant daardie kamers is ’n smal solderkamer onder die steil, skuins dak van die eerste huis. Solank ek kan onthou, is dié ruimte al in vier piepklein kamers verdeel. Die eerste een wat oor Barteljorisstraat uitkyk – en die enigste een met
’n regte venster – is tannie Bep s’n. Agter haar kamer, ingeryg soos die spoorwegkompartemente langs ’n nou gangetjie, is tannie Anna, Betsie en ons broer Willem se kamers. Vyf trappies boontoe van die kamer af, in die tweede huis aan die agterkant, is my en Nollie se kamertjie, onder Mamma en Pappa se kamer. Onder hulle kamer is ook die eetkamer, met die kombuis soos ’n nagedagte aan die kant vasgeheg. Al is tannie Jans se deel in die reeds vol huis merkwaardig groot, het dit nog nooit vir enigeen van ons so gelyk nie. Dit was die natuurlikste ding in die wêreld om vir tannie Jans plek te maak. Die hele dag klip-klop en klingel die perdetrem by ons huis verby Grote Markt toe, die sentrale dorpsplein ’n halwe blok van ons af. Altans, dit is waar hy vir ander mense stilhou. As tannie Jans iewers heen wil gaan, gaan staan sy net presies voor die horlosiewinkel se deur op die sypaadjie. Wanneer die perde dreunend naderkom, steek sy net een vinger in die lug op. Dit voel altyd vir my dit sou makliker gewees het om die son in die lug te laat stilstaan as om die trem se stormloop na sy bestemde plek te stuit. Maar vir tannie Jans hou hy altyd stil. Die remme skreeu, die perde val byna oor mekaar en die drywer groet met sy vingers liggies teen sy hoë hoed wanneer tannie Jans met ’n swaai van haar rok op die trem klim. Voor dié kommanderende oë moet Nollie nou met haar pelshoedjie verbystap. Tannie Jans koop die meeste van ons drie meisies se klere vandat sy by ons ingetrek het, maar teen ’n prys. Vir tannie Jans verteenwoordig die klere wat in die mode was toe sý jonk was die Skepper se finale woord oor kleredrag; alle veranderings wat daarna gekom het, is direk uit die duiwel se modeboek. Een van haar bekendste pamflette ontmasker die duiwel inderdaad as die uitvinder van die pofmou en die fietsryromp. “Ek weet!” roep ek uit terwyl die knoophaak in Betsie se hand seepglad teen my skoen opbeweeg. “Jy kan die pelshoedjie netjies binne-in die groot hoed inpas. En wanneer jy buite kom, af met die groot hoed!” “Corrie!” Nollie is werklik diep geskok. “Dis mos oneerlik!” Met ’n byna onheilspellende blik na die groot bruin hoed tel sy die pelshoedjie op en kies koers agter Betsie aan, met die trap af na die ontbyttafel toe. Ek tel my hoed op, die verlepte een van die vorige jaar, en stap sleepvoet agter
hulle aan, my hand gelate op die reling. Laat tannie Jans dan maar die verspotte hoedjie sien. Ek gee nie om nie. Ek kon nog nooit al die bohaai oor klere verstaan nie. Wat ek wel goed verstaan, en wat ontstellend is, is dat ek vandag vir die eerste keer skool toe gaan. Om die ou huis bokant die horlosiewinkel te verlaat, om Mamma en Pappa en my tannies daar te los, om eintlik alles wat bekend en dierbaar is daar te los… Ek gryp die reling so styf vas dat my handpalm ’n piepgeluid maak toe ek die draai vat. Die laerskool is net ’n blok en ’n half van ons huis af, en Nollie is nou al twee jaar daar sonder enige probleme. Maar Nollie is heeltemal anders as ek; sy is mooi en soet en het altyd ’n sakdoek by haar. Net toe ek om die laaste draai loop, skiet die oplossing my eensklaps te binne. Dis so eenvoudig dat ek hardop begin lag. Ek sal net nie skool toe gaan nie! Ek gaan net hier bly en vir tannie Anna help kos kook. Mamma sal my help lees en ek sal nooit na daardie snaakse, lelike ou gebou toe hoef te gaan nie. Verligting en vertroosting vloei deur my. Met een enkele sprong is ek by die laaste drie trappies af. “Sjuut!” Betsie en Nollie wag vir my buite die eetkamerdeur. “In hemelsnaam, Corrie, moenie iets doen om tannie Jans kwaad te maak nie,” smeek Betsie. “Ek is seker,” sê sy met die twyfel duidelik in haar stem, “dat Pappa en Mamma en tannie Anna van Nollie se hoed sal hou.” “Tannie Bep sal nie,” sê ek. “Sy hou nooit van iets nie,” sê Nollie. “So sy tel nie.” Tannie Bep met haar ewig afkeurende, misnoegde gesig is die oudste van ons tannies, en die een van wie ons die minste hou. Sy het dertig jaar lank as goewernante by ryk gesinne gewerk, en sy vergelyk gedurig ons gedrag met dié van die jong meisies en seuns aan wie sy skynbaar gewoond was. Betsie wys na die Friesland-horlosie teen die muur by die trap. Met ’n vinger op haar lippe maak sy dan die eetkamerdeur saggies oop. Dit is twaalf minute oor agt: ontbyt het reeds begin. “Twee minute laat!” roep Willem triomfantelik uit.
“Die Waller-kinders was nooit laat nie,” sê tannie Bep. “Maar hulle is hier!” sê Pappa. “En die vertrek is sommer vol sonskyn.” Ons drie hoor skaars sy woorde, want… tannie Jans se stoel is leeg. “Bly tannie Jans vandag in die bed?” vra Betsie hoopvol toe ons ons hoede aan die kapstok hang. “Sy is besig om vir haar ’n tonikum in die kombuis aan te maak,” antwoord Mamma. Sy leun vorentoe om koffie te skink en praat dan sagter. “Ons almal moet vandag meer bedagsaam as ooit teenoor tannie Jans wees. Dit is die dag waarop haar man se broer ’n paar jaar gelede gesterf het. Of was dit sy neef?” “Ek verbeel my dit was sy tannie,” sê tannie Anna. “Dit was ’n neef… en dit was ’n verlossing,” sê tannie Bep. “Hoe dit ook al sy,” sê Mamma en praat al hoe vinniger. “Julle weet hoe hierdie jaarlikse herdenkings vir tannie Jans omkrap. Ons almal moet dus maar mooi met haar werk.” Terwyl Betsie drie snye van die ronde broodjie afsny, kyk ek na al die volwassenes om die tafel. Ek probeer besluit wie van hulle die mees entoesiasties sal wees oor my besluit om by die huis te bly. Pappa, weet ek, beskou onderwys byna as ’n godsdiens. Hy self moes die skool vroeg verlaat om in die horlosiewinkel te begin werk. Al het hy homself later geskiedenis, teologie en letterkunde in vyf tale geleer, was hy altyd spyt oor die jare op skool en universiteit wat hy misgeloop het. Hy sal wil hê ek moet skool toe gaan – en wat Pappa wil hê, wil Mamma ook hê. Miskien dan tannie Anna? Sy het al so dikwels vir my gesê sy kan nie klaarkom sonder my wat met die boodskappe die steil trap op en af hardloop nie. Omdat Mamma nie sterk is nie, doen tannie Anna al die moeilike huiswerk vir ons familie van nege. Sy is die jongste van die vier susters, en sy het ’n hart net so warm soos Mamma s’n. Daar is ’n mite in ons familie dat tannie Anna betaling kry vir dié werk. Pappa gee dan ook inderdaad elke Saterdag getrou vir haar ’n gulde. Teen Woensdag, wanneer die groentehandelaar kom, vra hy dit egter dikwels terug, en dan het tannie Anna dit nog. Ja, sy sal my bondgenoot in dié saak wees.
“Tannie Anna,” begin ek, “ek het gedink hoe hard Tannie elke dag moet werk. En as ek nou in die skool is…” ’n Asem wat diep en dramaties ingetrek word, laat ons almal opkyk. Tannie Jans staan in die kombuisdeur met ’n glas dik bruin vloeistof in haar hand. Toe haar bors vol suurstof is, maak sy haar oë toe, bring die glas na haar lippe en drink dit leeg. Met ’n sug blaas sy die asem in haar longe uit, sit die glas op die buffet neer en gaan sit op haar stoel. “En tog,” sê sy asof ons besig was om daardie onderwerp te bespreek, “wat weet die dokters? Dr Blinker het dié tonikum voorgeskryf. Maar wat kan medisyne werklik doen? Watter goed doen enigiets as jou Dag aanbreek?” Ek kyk om die beurt na almal om die tafel. Niemand glimlag nie. Tannie Jans se obsessie met die dood kon snaaks gewees het, maar dit is nie. Hoe jonk ek ook al is, ek weet vrees is nooit snaaks nie. “En tog, Jans,” wys Pappa haar saggies tereg, “het medisyne al baie lewens verleng.” “Dit het nie vir Zusje gehelp nie, en sy het die heel beste dokters in Rotterdam gehad. Dit was op hierdie seldfe dag dat sy weggeval het. Sy was niks ouer as wat ek nou is nie. Sy het daardie dag opgestaan en aangetrek vir ontbyt, net soos ek nou.” Sy wil net wegval met ’n haarfyn verslag van Zusje se laaste dag toe haar oog op die hoederak val waar Nollie se hoedjie hang. “’n Pelsmof?” wil sy weet en haar stem is koorsagtig van agterdog. “Vir dié tyd van die jaar?” “Dit is nie ’n mof nie, tannie Jans,” sê Nollie in ’n dun stemmetjie. “Kan ’n mens dan moontlik uitvind wat dit is?” “Dis ’n hoed, tannie Jans,” antwoord Betsie namens Nollie. “Dit was ’n verrassing van mev Van Dyver. Was dit nie gaaf van…” “O nee! Nollie se hoed het ’n breë rand, soos ’n goed opgevoede meisie se hoed behoort te lyk. Ek weet. Ek het dit gekies… en betaal.”
Vlamme slaan op tannie Jans se wange uit. Nollie se oë blink van die trane, maar Mamma kom tot haar redding. “Ek is glad nie seker of dié kaas nog vars is nie.” Sy ruik aan die bak geel kaas en stoot dit na Pappa toe. “Wat dink jy, Casper?” Pappa, vir wie dit onmoontlik is om bedrog te pleeg of selfs te herken, ruik diep en ernstig aan die kaas. “Ek is seker dit is doodreg, my skat. So vars soos die dag toe dit hier aangekom het. Mnr Steerwijk se kaas is altyd…” Toe vang hy Mamma se oog en kyk verward van die een na die ander. “O… h’m… ek… Jans… h’m… wat dink jy?” Tannie Jans gryp die bak en staar met regverdige ywer na die kaas. As daar een onderwerp is waaraan sy al haar energie afstaan, meer nog as aan moderne kleredrag, is dit slegte kos. Uiteindelik, en taamlik teen haar sin soos dit vir my lyk, keur sy die kaas goed. Maar die hoed is vergete. Tannie Jans is steeds verdiep in ’n nuwe tragiese storie van ’n kennis “presies my ouderdom” wat dood is aan “twyfelagtige” vis toe die winkel se werkers opdaag en Pappa die swaar Bybel van die rak af haal. In hierdie jaar van 1898 is daar maar twee werknemers in die horlosiewinkel, die horlosiewerktuigkundige en Pappa se leerling-boodskapper. Nadat Mamma vir hulle koffie ingeskink het, sit Pappa sy bril op en begin lees. “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad… U is my skuilplek en my skild; op u woord wag ek…”
Watter soort skuilplek is dit? wonder ek half afgetrokke terwyl ek Pappa se bruin baard dophou. Dit wip op en af saam met die woorde. En wat is daar om voor weg te kruip? Dit is ’n ellelange psalm en langs my begin Nollie kriewel. Toe Pappa die groot Boek toemaak, is sy, Willem en Betsie dadelik op hulle voete. Hulle gryp hul hoede en storm met die laaste vyf trappies af, uit by die deur tot in die stegie. Heelwat stadiger staan die twee werkers op en volg die trap af na die winkel se agterdeur toe. Dan eers sien die vyf volwassenes dat ek nog soos ’n houtpop by die tafel sit. “Corrie!” roep Mamma uit. “Het jy vergeet jy is nou ’n groot meisie? Vandag
gaan jy ook skool toe. Opskud! Anders sal jy die straat alleen moet oorsteek.” “Ek gaan nie skool toe nie.” Daar is ’n geskokte stilte… en toe verbreek almal dit gelyk. “Toe ek ’n dogtertjie was…” begin tannie Jans. “Mev Waller se kinders…” kom dit van tannie Bep af. Maar Pappa se diep stem wis hulle stemme totaal uit. “Natuurlik gaan sy nie alleen nie. Nollie was vandag te opgewonde. Sy het net vergeet om vir Corrie te wag. Dis maar al. Corrie gaan saam met my.” Met dié woorde haal hy sy hoed van die kapstok af, vou sy groot hand om myne en lei my by die vertrek uit. My hand in Pappa s’n! Dit beteken gewoonlik die windmeule by die Spaarne of die swane op die kanaal. Maar hierdie keer neem hy my na waar ek nie wil wees nie. Daar is ’n reling langs die onderste vyf trappies. Ek gryp dit met my los hand vas en begin klou. Bedrewe horlosiemakervingers sluit om myne en maak hulle saggies los. Skreeuend en spartelend word ek weggelei uit die wêreld wat ek ken na ’n groter, vreemder een…
Maandae haal Pappa die trein Amsterdam toe om die korrekte tyd by die Vloot se observatorium te kry. Noudat my skooldae begin het, kan ek net in die somer saam met hom gaan. Ek hardloop met die trap af winkel toe, skoon geskrop, toegeknoop en gangbaar verklaar deur Betsie. Pappa gee nog laaste opdragte aan sy leerling. “Mev Staal sal vanoggend haar horlosie kom haal. En dié horlosie gaan na die Bakkers in Bloemendaal.” Dan val ons in die pad stasie toe, hand aan hand. Ek rek my treë al hoe langer en Pappa maak syne al hoe korter om in pas met my te loop. Die treinreis na Amsterdam duur net ’n halfuur, maar dit is ’n wonderlike ervaring. Eers maak die saamgekoekte huisies van ou Haarlem plek vir losstaande huise op klein lappies grond. Die ruimte tussen die huise word later groter en dan, skielik, is ons op die platteland. Die plat Hollandse landbougrond wat tot by die horison strek en penreguit kanale flits by die venster verby. Uiteindelik kom ons in Amsterdam aan, ’n stad selfs nog groter as Rotterdam, met verwarrende en
vreemde strate en kanale. Pappa kom altyd ’n paar uur voor die tydsein daar aan sodat hy nog ’n draai kan gaan maak by die groothandelaars wat hom van horlosies en onderdele voorsien. Baie van hulle is Jode, en dit is hierdie besoeke waarvan ons albei die meeste hou. Ná die kortste moontlike sakegesprek haal Pappa ’n Bybeltjie uit sy reistas. Die groothandelaar, wie se baard gewoonlik nog langer en voller as Pappa s’n is, trek ’n boek of ’n boekrol uit ’n laai en plak ’n gebedsmus op sy kop. Dan volg ’n yslike gedoente terwyl dié twee redeneer, vergelyk, mekaar in die rede val… Maar eintlik geniet hulle mekaar se geselskap vreeslik baie. Net toe ek besluit hulle het my hierdie keer regtig heeltemal vergeet, kyk die groothandelaar op, sien my raak asof dit die heel eerste keer is en slaan met sy handpalm teen sy voorkop. “’n Gas! ’n Gas binne my poorte en ek het haar geen verversing aangebied nie!” Hy spring op, vroetel rond onder rakke en in kaste en kort daarna hou ek op my skoot ’n bord met die heerlikste lekkernye in die wêreld vas – heuningkoekies, dadelkoekies en lekkers gemaak van neute, vrugte en suiker. Nagereg is maar skaars in die Beje, en taai lekkernye soos hierdie heeltemal onbekend. Om vyf voor twaalf is ons terug op die stasie. Ons staan op ’n plek op die platform van waar ons die toring van die Vloot se observatorium duidelik kan sien. Heel bo-op die toring, waar dit duidelik deur al die skepe in die hawe gesien kan word, is ’n lang staaf met twee beweegbare arms. Elke dag presies om twaalfuur val die arms. Pappa staan op sy uitkykpunt op die platform, amper op sy tone van lekkerkry en noukeurigheid, met sy sakhorlosie, skryfboekie en potlood in die hand. Daar’s hy! Vier sekondes voor twaalf. Binne ’n uur is die astronomie-horlosie in die winkel in Haarlem akkuraat ingestel, tot op die sekonde. Tydens die treinreis huis toe kyk ons nie meer by die venster uit nie. Ons gesels eerder – oor verskillende dinge namate die jare verbysnel. Betsie wat hoërskool voltooi ten spyte van al die maande wat sy weens haar siekte verloor het. Willem wat ’n beurs sal kry wanneer hy klaar is met skool, wat hom in staat sal stel om universiteit toe te gaan. Betsie wat in die winkel as Pappa se boekhouer begin werk. Dikwels gebruik ek die reis huis toe om met Pappa te praat oor dinge wat my
hinder, want enigiets wat ek by die huis vra, word onmiddellik deur die tannies beantwoord. Eendag, tot ek tien of elf jaar oud was, vra ek vir Pappa uit oor ’n gedig wat ons die vorige winter by die skool gelees het. Een reël het “’n jongman wie se gesig nie die skaduwee van sekssonde op gehad het nie” beskryf. Ek was gans te skaam om vir die onderwyseres te vra wat dit beteken. Toe ek vir Mamma daaroor uitvra, het sy net bloedrooi gebloos. In daardie dae, net ná die einde van die eeu, het niemand oor seks gepraat nie, nie eens by die huis nie. Juis daarom het dié reël in my kop bly vassteek. Ek was doodseker “seks” verwys na die feit of jy ’n seun of ’n meisie is, en “sonde”, het ek geweet, maak vir tannie Jans bitter kwaad. Maar wat dié twee saam beteken, kon ek nie uitpluis nie. Terwyl ek langs Pappa in die kompartement sit, vra ek hom toe skielik: “Pappa, wat is sekssonde?” Hy draai skuins om na my te kyk, soos altyd wanneer hy ’n vraag beantwoord. Maar tot my verbasing sê hy niks. Uiteindelik staan hy op, tel sy reistas van die rak bo ons koppe af en sit dit op die vloer neer. “Sal jy dit van die trein af dra?” vra hy vir my. Ek staan op en trek aan die tas. Dit is propvol horlosies en onderdele wat Pappa die oggend gekoop het. “Dis te swaar,” sê ek. “Ja,” sê hy. “En dit sal ’n patetiese pa wees wat sy dogter vra om so ’n swaar vrag te dra. Dit werk dieselfde met kennis, Corrie. Daar is kennis wat net te swaar is vir kinders. Wanneer jy ouer en sterker is, sal jy dit kan dra. Nou moet jy my eers vertrou om dit vír jou te dra.” Ek is tevrede. Meer as tevrede. Wonderbaarlik rustig. Daar is ’n antwoord vir hierdie vraag, vir ál my moeilike vrae. Nou is ek eers tevrede om dit in my pa se sorg oor te laat.
In die aand is daar altyd geselskap en musiek by die Beje. Gaste bring hulle fluite of viole saam, en omdat elke lid van ons familie ’n instrument bespeel, maak ons nogal ’n oulike orkes rondom die regop klavier in tannie Jans se
voorste kamer. Die enigste aande wat ons nie self musiek maak nie, is wanneer daar ’n konsert in die dorp is. Ons kan nie die kaartjies bekostig nie, maar wanneer ons gaan staan by een van die sydeure wat na die verhoog lei, kan ons die klanke van binne duidelik hoor. Daar in die stegie buitekant die deur volg ons en tientalle ander musiekliefhebbers van Haarlem elke enkele noot. Mamma en Betsie is nie sterk genoeg om so lank te staan nie, maar die meeste van ons wat in die Beje woon, is daar, of dit nou reën of ryp of sneeu. Al kan ons die gehoor binne hoor vroetel en hoes, luister ons daar in die stegie so stil soos muise. Die heel lekkerste is wanneer daar ’n konsert in die katedraal gehou word, want een van ons familielede is die koster daar. Net binnekant sy privaat ingang is daar ’n houtbank teen die muur. Daar sit ons dan, ons rûe yskoud teen die eeue oue muur, maar ons ore en harte word warm van die musiek. Mozart self het op die groot goue orrel gespeel, en sommige note klink of hulle uit die hemel self neerdaal. Ek is seker die hemel moet soos Sint Bavo wees en waarskynlik net so groot. Die hel, weet ek, is ’n warm plek; dan moet die hemel wees soos dié koue, vogtige, heilige gebou waar rook soos wierook opstyg van die voetverwarmers van dié wat daarvoor kan betaal. In die hemel, glo ek vas, het almal voetverwarmers. Selfs in die somer bly die koue in die marmerblokke op die vloer onder ons voete vassteek. Maar wanneer die orrelis die klawers raak, merk ons dit skaars op – en wanneer hy Bach speel, glad nie.
Ek volg vir Mamma en Nollie met ’n donker, reguit trap op. Die spinnerakke kleef aan ons hare vas en muise skarrel voor ons weg. Die gebou staan minder as ’n blok van die Beje af en is waarskynlik ’n eeu jonger, maar hier woon nie ’n tannie Anna wat skrop en poets nie. Ons besoek een van die arm gesinne in die buurt, een van die vele wat Mamma aangeneem het. Die gedagte kom nooit by enigeen van ons kinders op dat ons self arm is nie; “die armes” is mense na wie ons mandjies neem. Mamma is altyd besig om voedsame sop en pap te kook vir bejaarde mans wat in hierdie wêreld vergete is en vir bleek, jong ma’s – natuurlik net op dié dae dat sy self gesond genoeg voel om voor die stoof te staan. Die vorige nag het ’n baba gesterf, en met die vars brood wat sy self gebak het,
lê Mamma nou haar normale besoek by die gesin af. Moeisaam swoeg sy met die relinglose trap op en gaan staan dikwels om asem te skep. Aan die bopunt van die trap lei ’n deur na ’n enkelkamertjie wat baie duidelik die rol van kombuis, eet- en slaapkamer vervul. Daar is reeds baie besoekers. Die meeste van hulle staan omdat daar nie genoeg stoele is nie. Mamma gaan dadelik na die jong ma toe, maar ek bly vasgenael in die deur staan. Net regs van die deur, so vreeslik stil in die tuisgemaakte wiegie, lê die baba. Hoe vreemd dat ’n gemeenskap wat die feite oor seks so sorgvuldig vir kinders verberg, geen poging aanwend om hulle teen die dood te beskerm nie. Ek staar na die beweginglose lyfie en my hart klop met ’n vreemde ritme teen my ribbes. Nollie, altyd dapperder as ek, steek haar hand uit en raak aan die bleekwit wangetjie. Ek wil dit so graag doen, maar ek aarsel, te bang. Nuuskierigheid en vrees voer ’n stryd in my. Eindelik druk ek een vinger teen die toegevoude handjie. Dit is koud. Koud terwyl ons stadig terugstap Beje toe; koud terwyl ek voor aandete was; koud selfs in die snoesige, gasverligte eetkamer. Tussen my en elke bekende gesig om die tafel kruip daardie ysige vingertjies in. Al het tannie Jans al so dikwels daaroor gepraat, was dood vir my nog altyd maar net ’n woord. Nou weet ek dit kan werklik gebeur – nie net met ’n baba nie, maar ook met Pappa, Mamma en Betsie. Steeds bewend van dáárdie koue, volg ek vir Nollie kamer toe en kruip langs haar in die bed. Eindelik hoor ons Pappa se voetstappe met die draaitrap op kom. Dit is die wonderlikste oomblik van elke dag – wanneer hy boontoe kom om ons lekker warm toe te maak. Ons raak nooit aan die slaap voordat hy die komberse op sy besonderse manier reggetrek en sy hand ’n oomblik op my en Nollie se voorkop gelê het nie. Op daardie oomblik probeer ons nie eens ’n toon verroer nie. Maar vanaand, toe hy by die deur instap, bars ek in trane uit. “Ek het Pappa nodig,” snik ek. “Pappa mag nie doodgaan nie. Pappa mag nie.” Langs my op die bed sit Nollie dadelik regop. “Ons was vandag by mev Hoog,” verduidelik sy. “En Corrie het vanaand niks geëet nie.”
Pappa gaan sit op die rand van die smal bedjie. “Corrie,” sê hy vol deernis, “as ek en jy Amsterdam toe gaan, wanneer gee ek vir jou jou kaartjie?” Ek snuif ’n paar keer terwyl ek oor die vraag dink. “Net voordat ons op die trein klim.” “Presies. Net so weet ons wyse Vader in die hemel wanneer ons dinge nodig het. Moet Hom nie vooruit hardloop nie, Corrie. Wanneer die tyd kom dat party van ons moet sterf, sal jy in jou hart inkyk en jy sal die krag wat jy nodig het daar vind – betyds.”
3
Karel
Toe ek veertien is, ontmoet ek die eerste keer vir Karel, by een van die “geleenthede” waarvoor Mamma so bekend was. Vandag kan ek nie onthou of dit ’n verjaarsdag, ’n huweliksherdenking of ’n nuwe baba was nie – Mamma kon ’n partytjie van enigiets maak. Willem stel vir Karel aan ons voor as ’n vriend uit Leiden, en hy groet ons elkeen met die hand. Toe ek sy sterk, slanke hand in myne neem en diep in sy bruin oë kyk, raak ek onherroeplik verlief. Die oomblik toe almal hulle koffie het, gaan ek sit om net na hom te kyk en te kyk. Hy is skynbaar onbewus van my, maar dit is heeltemal natuurlik. Ek is immers net veertien jaar oud. Hy en Willem is reeds universiteitstudente met ruie baarde. Die blou sigaarwolke bol tussen hulle terwyl hulle gesels. Dit is vir my heeltemal genoeg om maar net in dieselfde kamer as Karel te wees. Om nie raakgesien te word nie, wel, daaraan is ek gewoond. Nollie is die een vir wie die seuns raaksien, maar soos die meeste mooi meisies gee sy nie eintlik om nie. Wanneer ’n seun haar vir ’n haarlok vra – die gewone manier om jou liefde te verklaar – trek sy sommer ’n paar drade uit die stokou vaal tapyt in ons slaapkamer, bind hulle met ’n sentimentele blou lintjie vas en maak my die boodskapper. Die tapyt is nou al vol kaal kolle en die skool vol gebroke harte. Ek, weer, raak om die beurt op elke seun in my klas verlief. Dis al ’n soort hopelose, gereelde ritme. Omdat ek nie mooi is nie en te skaam is om te sê hoe ek voel, word ’n hele geslag seuns groot, totaal onbewus van die meisie in bank nommer twee en dertig. Maar Karel, dink ek en hou hom dop terwyl hy suiker in sy koffie gooi, Karel is ’n ander saak. Vir Karel sal ek vir ewig liefhê.
Twee jaar gaan verby voordat ek hom weer sien… In die winter van 1908 reis ek en Nollie Leiden toe om by Willem te gaan kuier. Sy yl gemeubileerde kamer is op die vierde verdieping van ’n privaat huis. Toe ons daar instap, gryp hy vir my en Nollie sommer so saam in ’n kragtige omhelsing vas. Dan trek hy ons na die venster toe. “Hier,” sê hy en haal ’n roomkoekie van die vensterbank af waar hy dit neergesit het om koud te bly. “Ek het dit vir julle gekoop. Eet dit gou-gou, voor my uitgehongerde vriende hier aankom.” Ons sit op die rand van Willem se bed en verslind die kosbare koek. Ek vermoed dat Willem sonder middagete moes klaarkom om dié stukkie bederf vir ons te kon koop. ’n Oomblik later vlieg die deur oop en vier van sy vriende bars in – lang jong mans met diep stemme, geklee in jasse met die krae al twee maal omgedraai en die moue verslete. Een van hulle is Karel. Ek sluk die laaste stukkie koek af, vee my hande aan die agterkant van my romp af en staan op. Willem stel vir my en Nollie aan die besoekers voor, maar toe hy by Karel kom, val hy vir Willem in die rede. “Ons ken mekaar reeds.” Hy maak ’n buiginkie. “Onthou jy? Ons het mekaar tydens ’n partytjie by julle huis ontmoet.” Ek kyk van Karel na Nollie, maar nee, hy kyk reguit na my. My hart wil jubelend antwoord, maar my mond is nog vol van die taai oorblyfsels van die roomkoek en die antwoord bereik nie my lippe nie. Gou sit die jong mans by ons voete op die vloer, almal hard en gelyktydig aan die praat. Nollie sit langs my op die bed en gesels saam asof ’n besoek aan ’n universiteit vir ons ’n alledaagse gebeurtenis is. Vir haar is dit natuurlik glad nie moeilik nie. Op agttien dra sy reeds lang rokke terwyl ek nou pynlik bewus is van my dik swart skoolkouse, die hele vyftien sentimeter daarvan tussen my rok en my skoene. Buitendien is daar baie dinge waaroor Nollie kan praat. Sy is verlede jaar al kollege toe. Sy wil nie regtig ’n onderwyseres word nie, maar die universiteite ken nie studiebeurse aan meisies toe nie, en die kolleges is nie so duur nie. Sy gesels so gemaklik en vlot oor die dinge waarin studente belangstel – die nuwe relatiwiteitsteorie van ene Einstein, en die vraag of iraal Peary werklik die
Noordpool sal bereik. “En jy, Corrie? Gaan jy ook ’n onderwyseres word?” Van waar hy op die vloer by my voete sit, glimlag Karel vir my. Ek voel hoe die bloed warm onder my hoë kraag opstoot. “Volgende jaar, bedoel ek,” voeg hy by. “Dit is mos jou laaste jaar op skool, nie waar nie?” “Ja. Ek bedoel, nee. Ek gaan by die huis bly, saam met Mamma en tannie Anna.” Dit klink so kortaf en so saai. Hoekom sê ek so min as ek so baie wil sê?
In die lente maak ek klaar met skool en neem die huishouding oor. Dit was nog altyd die plan, maar nou is daar ’n bykomstige rede. Tannie Bep ly aan tuberkulose. ’n Ongeneeslike siekte. Die enigste bekende behandeling daarvoor is rus in ’n sanatorium, en dít is slegs vir die rykes beskore. Tannie Bep lê daarom maar maande lank in haar kamertjie en hoes haar lewe weg. Om te keer dat ons almal aansteek, gaan net tannie Anna by tannie Bep se kamer in. Dag en nag verpleeg sy haar suster en baie nagte kry sy geen slaap in nie. Daarom neem ek die hele huishouding oor. Ek hou van die werk. As dit nie vir tannie Bep se siekte was nie, sou ek heeltemal gelukkig gewees het. Maar oor alles lê haar skaduwee – nie net die skaduwee van die siekte nie, maar ook die skaduwee van haar hele onvergenoegde en teleurstellende lewe. Dikwels wanneer ek vir tannie Anna ’n skinkbord by die deur aangee of een by haar neem, val my blik vlugtig op die siekekamer. Al wat daar is, is die enkele patetiese aandenkings van ’n lewe waarvan sy dertig jaar in ander mense se huise deurgebring het. Parfuumbottels – baie jare al leeg – want goed opgevoede gesinne gee altyd vir die goewernante parfuum as ’n Kersgeskenk. Etlike verdofde sketse van kinders wat teen hierdie tyd reeds hulle eie kinders en selfs kleinkinders moet hê. Maar dan gaan die deur toe. Telkens bly draal ek in die nou gangetjie onder die dakrand, smagtend om iets te sê, om iets te genees, om haar meer lief te hê. Ek praat ’n keer met Mamma oor my gevoelens. Ook sy word al hoe meer bedlêend. In die verlede, wanneer die pyn van die galstene te erg geword het, het
sy altyd ’n operasie ondergaan. ’n Ligte beroerte ná die laaste operasie het egter enige verdere operasies onmoontlik gemaak. Baie dae wanneer ek vir tannie Bep ’n skinkbord met kos voorberei, dra ek ook vir Mamma ’n skinkbord vol eetgoed na haar kamer. Toe ek vandag haar middagete vir haar neem, is sy besig om briewe te skryf. Wanneer Mamma nie die buurt se mense van musse en babarokkies voorsien nie, skryf sy opbeurende boodskappe vir die ingehoktes oor die lengte en breedte van Haarlem. Die gedagte dat sy self ’n groot gedeelte van haar lewe ingehok was, kom nooit by haar op nie. “Hierdie arme man, Corrie,” roep sy toe ek instap. “Drie jaar lank al is hy in ’n kamertjie opgesluit. Dink net, heeltemal afgesluit van die blou lug!” Ek kyk by Mamma se enigste venster uit na die baksteenmuur een meter van die venster af. “Mamma,” sê ek toe ek die skinkbord op haar bed neersit en langs haar gaan sit, “kan ons nie iets vir tannie Bep doen nie? Ek bedoel, is dit nie hartseer dat sy haar laaste dae moet deurbring op die plek wat sy juis so haat nie? Hoekom kan sy nie liewer by die Wallers gaan woon nie, of op een van die ander plekke waar sy so gelukkig was?” Mamma sit haar pen neer en kyk na my. “Corrie,” sê sy ná ’n rukkie, “Bep is hier by ons net so gelukkig as op enige ander plek, nie meer nie en nie minder nie.” Ek staar haar onbegrypend aan. “Weet jy wanneer sy die Wallers so vreeslik begin prys het?” vra Mamma. “Die dag toe sy by hulle weg is. Terwyl sy by hulle was, het sy steen en been gekla. ’n Mens kan die Wallers nie vergelyk met die Van Hooks waar sy vroeër was nie. Maar by die Van Hooks was sy inderdaad ongelukkig. Geluk hang nie van ons omgewing af nie, Corrie. Dis iets wat ons binne-in onsself maak.”
Tannie Bep se dood laat haar susters op die kenmerkende manier reageer. Mamma en tannie Anna kook dubbel soveel en doen al hoe meer naaldwerk vir die buurt se behoeftiges, asof hulle besef hoe kortstondig ’n mens se lewe van diens werklik is. Tannie Jans se besondere spookbeeld beweeg al hoe nader aan haar. “My eie suster,” sê sy elke nou en dan in die dag. “Sowaar, dit kon so maklik ek gewees het.”
’n Jaar of wat ná tannie Bep se dood neem ’n nuwe dokter dr Blinker se huisbesoeke oor. Die nuwe dokter se naam is Jan van Veen, en sy suster, wat ook sy verpleegster is, is Tine van Veen. Saam met hom bring hy ook ’n nuwe toestel om bloeddruk te meet. Ons het geen benul wat dit beteken nie, maar elke lid van die huisgesin laat toe dat die strook materiaal om ons boarm gedraai en vol lug gepomp word. Tannie Jans, wat ’n groot liefde vir enige soort mediese hulpmiddels het, is geweldig ingenome met die nuwe dokter. Sy raadpleeg hom dan ook so dikwels as wat haar geldjies dit toelaat. So kom dit dat dr Van Veen ’n paar jaar later ontdek tannie Jans ly aan suikersiekte. In daardie tyd is diabetes ’n doodsvonnis, net so seker soos tuberkulose. Dae lank is ons as gesin verlam van die skok. Ná soveel jare waarin die blote gedagte ons met vrees vervul het, is dié siekte met sy verskrikking nou tussen ons. Toe tannie Jans die nuus kry, gaan sy reguit bed toe. Ledigheid is egter nie in pas met haar energieke persoonlikheid nie. Een oggend verskyn sy, tot almal se verbasing, stiptelik om tien oor agt in die eetkamer vir ontbyt. Sy sê vir ons dat dokters dikwels verkeerd is. “Al hierdie buisies en toetse,” sê tannie Jans wat nog altyd onvoorwaardelik daaraan geglo het, “wat bewys dit nou eintlik?” Van toe af wy sy haar energie nog meer aan haar skryfwerk en toesprake. Sy stig nog klubs en begin met allerhande nuwe projekte. Soos die res van Europa, mobiliseer Holland in 1914 vir die oorlog. Skielik is die strate van Haarlem vol jong manne in uniforms. Vanuit haar venster hou tannie Jans hulle dop terwyl hulle doelloos in die straat af slenter en verveeld by die winkelvensters inloer. Die meeste van hulle is jonk, sonder geld en eensaam. Dadelik tref die idee van ’n soldatesentrum haar. Nogal ’n radikale idee vir daardie tyd, maar tannie Jans pak dit hartstogtelik aan. Net dié van ons wat haar die beste ken, weet van die verskriklike vrees wat haar dryf. Intussen bring tannie Jans se siekte ook geldelike probleme. Elke week moet die suikerinhoud van haar bloed getoets word. Omdat dit ’n ingewikkelde en duur proses is, moet óf dr Van Veen óf sy suster na ons huis toe kom om die toets te doen. Uiteindelik leer Tine my om self die toets te doen. Dit bestaan uit verskeie
stappe. Die belangrikste stap is om die finale mengsel tot presies die regte temperatuur te verhit. Dit is maar moeilik om akkuraat te werk op die ou steenkoolstoof in ons donker kombuis, maar uiteindelik leer ek tog hoe. Elke Vrydag meng ek die chemikalieë en doen self die toets. As die mengsel helder bly, is alles reg. As dit swart word, moet ek vir dr Van Veen laat weet. In die lente van daardie jaar kom Willem vir sy laaste vakansie voor sy ordening as predikant huis toe. Hy het twee jaar vroeër al sy universiteitsgraad behaal en is nou in sy laaste maande by die kweekskool. Een warm aand tydens sy besoek sit ons almal om die eetkamertafel. Pappa sit met dertig horlosies voor hom uitgestal en skryf in sy noukeurige en netjiese handskrif “twee sekondes verloor” of “vyf sekondes gewen” by elkeen neer terwyl Willem hardop uit die geskiedenis van die Nederlandse Hervorming voorlees. Skielik lui die klokkie in die steeg. Buite die eetkamervenster is daar ’n spieël wat op die deur in die laan afkyk sodat ons kan sien wie die besoeker is voordat ons ondertoe loop om oop te maak. Ek kyk in die spieël en spring van die tafel af op. “Corrie!” sê Betsie berispend. “Jou romp!” Ek kan maar net nie onthou dat ek ook nou lang rokke dra nie. Arme Betsie offer so baie aande op om al die skeurplekkies heel te maak. Ek spring sommer vyf trappies op ’n slag tot onder, want voor die deur, met ’n ruiker affodille in haar hand, staan Tine van Veen. Of dit nou die sagte lenteaand is wat my die gedagte gee en of dit Willem se dramatiese preekstoelstem is, weet ek nie. Ek weet net skielik die ontmoeting tussen hierdie twee jongmense sal ’n baie besonderse oomblik wees. “Vir jou ma, Corrie,” sê Tine en hou die blomme na my toe uit. “Ek hoop sy is…” “Nee, nee, dra jy die blomme. Jy lyk so lieflik met hulle in jou hande.” Sonder om haar jas te vat, stoot ek die halfverskrikte meisie voor my met die trap op. Ek druk haar by die eetkamerdeur in terwyl ek amper op haar hakke trap om Willem se reaksie te kan sien. Ek weet presies wat gaan gebeur. Ek leef immers my lewe in die romantiese verhale wat ek by die biblioteek uitneem en
in Engels, Nederlands en Duits lees. Dikwels lees ek dié waarvan ek baie hou sommer in al drie die tale. In my verbeelding tower ek die toneel op waar die held die heldin mekaar ontmoet, en ek laat dit duisende kere in my gedagtes afgespeel. Willem staan stadig op. Sy oë bly stip op Tine gerig. Ook Pappa staan op. “Juffrou Van Veen,” sê Pappa op sy ouderwetse manier, “laat ek u voorstel aan ons seun, Willem. Willem, dis nou die jong dame van wie se bekwaamheid en goedhartigheid jy ons al so dikwels hoor praat het.” Ek twyfel of een van die twee Pappa se woorde hoor. Hulle staar in mekaar se oë asof daar geen ander mens in die vertrek of in die hele wye wêreld is nie.
Willem en Tine trou twee maande ná sy ordening. In al die weke terwyl ons vir die troue voorberei, steek één gedagte by my vas: Karel gaan daar wees. Die troudag breek koel en helder aan. My oë vind dadelik vir Karel in die skare voor die kerk. Hy dra ’n manel en keil soos al die ander mans, maar hy is verreweg die aantreklikste. Vir my voel dit of ek ’n radikale verandering ondergaan het sedert ek hom laas gesien het. Die verskil tussen my een en twintig jare en sy ses en twintig is nou nie meer so groot soos vroeër nie. Meer nog, ek voel… Nee, nie mooi nie. Selfs op so ’n romantiese dag kan ek myself nie oortuig ek is mooi nie. Ek weet my ken is te vierkantig, my bene te lank, my hande te groot. Maar ek glo werklik – en al die boeke stem daaroor saam – ek sal mooi wees vir die man wat my liefhet. Betsie het die oggend my hare gedoen, ’n moeilike taak wat ’n uur met die krulyster geverg het. Dit is hoog op my kop opgestapel, en wonder bo wonder hou dit nog. Betsie het ook my syrok gemaak, net soos sy vir elke vrou in die gesin in die aand by lamplig ’n rok gemaak het. Sy moes maar in die aand werk, want die winkel is ses dae per week oop en op Sondae mag sy nie naaldwerk doen nie. Ek kyk rond en besluit ons tuisgemaakte rokke is net so modieus soos enigeen van die ander vroue se rokke. Niemand sal ooit raai, dink ek terwyl ons na die deur toe stap, dat Pappa sy sigare prysgegee het en tannie Jans die kaggelvuur in
haar kamer om die sy te kon koop wat nou so elegant om ons ruis nie. “Corrie?” Voor my staan Karel, swart keil in die hand, sy oë stip op my gesig gevestig, asof hy nie heeltemal seker is wat om te sê nie. “Ja, dis ek!” sê ek terwyl ek laggend na hom opkyk. Dis ek, Karel, en dis jy. En dit is die oomblik waarvan ek gedroom het! “Maar jy is so… so volwasse. Vergewe my, Corrie, natuurlik is jy mos. Dis maar net… ek het nog altyd aan jou gedink as die dogtertjie met die yslike blou oë.” Hy staar nog so ’n rukkie na my en voeg dan saggies by: “En nou is die dogtertjie ’n vrou… en boonop pragtig.” Skielik is die orrelmusiek wat by die deur uitrol net vir ons bedoel. Hy bied my sy arm aan, en dit is al wat keer dat ek die lug in sweef, oor die puntige dakke van Haarlem se huise.
Dis ’n winderige Vrydagoggend in Januarie toe my oë vir my vertel wat my brein aanvanklik weier om te aanvaar. Die vloeistof in die glasbeker het ’n modderige, dooie swart kleur. Ek leun teen die ou houtwasbak en maak my oë styf toe. “Asseblief, Here, laat ek tog net ’n fout gemaak het!” In my gedagtes herhaal ek die verskillende stappe; ek kyk na al die flessies met chemikalieë en maatlepels. Nee. Alles is presies net soos ek dit altyd doen. Dan is dit dié ellendige vertrek. Dit is altyd donker in dié vuurhoutjiedosie van ’n kombuis. Met ’n vadoek raap ek die warm glasbeker op en hardloop na die venster in die eetkamer. Swart. Swart soos die vrees en die dood self. Met die beker nog in my hand vasgeklem, hardloop ek met die vyf trappies af en in by die agterdeur van die winkel. Pappa, sy juweliersglasie voor sy oog, buk oor sy nuutste leerling se skouer en kies behendig ’n oneindig klein onderdeeltjie uit tussen die verskeidenheid voor hulle op die werkbank.
Ek kyk deur die glasdeur tot in die winkel, maar Betsie staan agter haar toonbank met ’n klant en praat. Nee, nie ’n klant nie, help ek myself reg, ’n laspos. Ek ken mos dié vrou. Sy kom kastig hierheen om raad oor horlosies te vra, maar dan gaan koop sy hulle by Kan se nuwe winkel oorkant die straat. Nóg Pappa nóg Betsie is skynbaar daaroor bekommerd dat dit al hoe meer gebeur. Toe die vrou vertrek, bars ek by die deur in met die beker waarheid in my hand. “Betsie!” roep ek uit. “O Betsie, dis swart! Hoe gaan ons vir haar sê? Wat gaan ons doen?” Betsie stap vinnig agter die toonbank uit en vou haar arms styf om my. Agter my kom Pappa ook ingestap. Sy oë gaan van die beker na Betsie en toe na my. “En jy het dit presies reg gedoen, Corrie? In elke besonderheid?” “Beslis, ja, Pappa.” “Ek is seker jy het, my kind. Maar ons moet ook die dokter se mening kry.” “Ek neem dit dadelik na hom toe,” sê ek. Ek gooi die aaklige vloeistof in ’n botteltjie en hardloop daarmee oor die gladde, natgereënde strate van Haarlem. Daar is ’n nuwe verpleegster by dr Van Veen. Ek wag in doodse stilte ’n hele miserabele halfuur in die wagkamer. Uiteindelik vertrek die pasiënt en dr Van Veen neem die bottel na sy laboratorium. “Jy het nie ’n fout gemaak nie, Corrie,” sê hy toe hy weer verskyn. “Jou tannie het op die meeste drie weke om te leef.” Ons hou ’n gesinsvergadering in die horlosiewinkel toe ek terugkom: ek, Mamma, tannie Anna, Pappa en Betsie. Ons stem saam dat tannie Jans dadelik moet weet. “Ons almal gaan dit saam vir haar sê,” besluit Pappa. “Maar ék sal die nodige woorde sê. Miskien,” sê hy dan en sy gesig helder effens op, “miskien sal sy moed skep uit alles wat sy bereik het. Sy heg baie waarde aan alles wat sy vermag het. En wie weet, dalk is sy heeltemal reg.”
Ons streep in ’n ry op na tannie Jans se kamers toe. “Kom binne,” roep sy toe Pappa klop en voeg dan soos altyd by, “voor die trek ’n einde aan my lewe maak.” Sy sit by haar ronde mahoniehouttafel, besig met nog ’n opname vir haar soldatesentrum. Toe sy soveel mense gelyk sien instap, sit sy haar pen neer. Sy kyk van die een na die ander en trek haar asem skerp in toe sy verstaan. Dit is Vrydagoggend. Ek het nog nie vir haar die uitslag van haar toets gegee nie. “My liewe skoonsuster,” begin Pappa met ’n sagte stemtoon, “daar is ’n reis vol vreugde waarop elk van God se kinders vroeër of later gaan. En, Jans, sommige moet met leë hande na hulle Vader toe gaan, maar jy sal met jou hande vol na Hom toe hardloop.” “Al jou klubs…” probeer tannie Anna. “Alles wat jy geskryf het…” voeg Mamma by. “Die geld wat Tannie ingesamel het…” sê Betsie. “Al Tannie se toesprake…” begin ek. Maar ons goedbedoelde woorde is nutteloos. Reg voor ons oë stort die trotse vrou ineen. Tannie Jans vou haar hande oor haar oë en begin huil. “Leeg, leeg!” kom dit gesmoor tussen haar trane deur. “Hoe kan ons iets na God toe neem? Wat gee Hy om vir ons toertjies en snuisterye?” Terwyl ons vol ongeloof na haar staan en luister, laat sak sy haar hande. Terwyl die trane steeds oor haar wange stroom, fluister sy: “Jesus, ek dank U dat ons met leë hande na U toe moet kom. Ek dank U dat U alles – alles – aan die kruis gedoen het. Al wat ons in lewe en dood nodig het, is om hiervan seker te wees.” Mamma vou haar arms om tannie Jans en hulle hou mekaar styf vas. Ek staan egter vasgenael daar, want ek weet ek het iets ondeurgrondelik gesien. Dit is Pappa se treinkaartjie, op die volmaak regte oomblik gegee. Met ’n swaai van haar sakdoek en ’n harde snuit van haar neus, laat tannie Jans ons weet die tyd vir emosie is nou verby.
“As ’n mens ’n oomblik se privaatheid kon kry, sou jy jou werk gedoen kon kry,” sê sy. Sy kyk na Pappa en in haar streng oë is daar skielik iets anders, die naaste aan ’n vonkel wat ek nog ooit in tannie Jans se oë gesien het. “Nie dat werk saak maak nie, Casper. Nee, dit maak glad nie saak nie. Maar,” en só raak sy vasbeslote van ons ontslae, “ek gaan nie ’n slordige skryftafel agterlaat vir iemand anders om op te ruim nie.”
Vier maande ná tannie Jans se begrafnis ontvang ons die langverwagte uitnodiging na Willem se eerste preek. Nadat hy minder as ’n jaar hulpprediker by ’n gemeente in Uithuizen was, het hy nou sy eie gemeente in Brabant, die pragtige landelike deel in die suide van Holland. In die Nederduitsch Hervormde Kerk is ’n predikant se eerste preek in sy eerste gemeente die plegtigste, vreugdevolste, roerendste geleentheid wat ’n onemosionele volk hulleself toelaat. Familie en vriende reis van heinde en ver en bly sommer dae lank oor om die geleentheid te kan bywoon. Karel, steeds ’n hulpprediker, skryf dat hy ook daar sal wees, en hy sien uit om ons almal weer te sien. Ek laat die woordjie “almal” vir my ’n baie spesiale betekenis aanneem. Ek stryk rokke en pak tasse in ’n vlaag van koorsagtige afwagting. Dit is een van Mamma se slegte tye. Sy sit inmekaargetrek in die hoekie van ons kompartement. Die kneukels van haar hand wat Pappa s’n vashou, word wit elke keer dat die trein ruk of swaai. Terwyl ons ander na die lang rye populiere in hulle heldergroen Junie-baadjies kyk, bly Mamma se oë deurentyd op die lug gerig. Wat vir ons ’n reis deur die platteland is, is vir haar ’n fees van lig en wolke en oneindige blou ruimtes. Die dorpie Made én Willem se gemeente het onlangs baie gekrimp. Tog is die ou kerkgebou uit beter dae groot, en Willem en Tine se huis oorkant die straat heerlik ruim. In vergelyking met die Beje is dit reusagtig. Die eerste paar aande lyk die plafon vir my so hoog dat ek nie kan slaap nie. Ooms en tannies trek elke dag in, maar ongeag hoeveel mense daar instap, die vertrekke bly vir my leeg lyk. Drie dae ná ons aankoms klop iemand aan die deur. Toe ek gaan oopmaak, staan
Karel daar met spikkels steenkool van die treinreis nog op sy skouers. Hy gooi sy bruin reistas by my verby tot in die portaal, gryp my hand en trek my buitentoe tot in die Junie-sonskyn. “Dis ’n lieflike dag hier op die platteland, Corrie!” roep hy uit. “Kom ons gaan stap.” Van toe af is dit vanselfsprekend dat ek en Karel elke dag gaan stap. Elke keer stap ons ’n bietjie verder af in die lane wat in elke rigting vanuit die dorpie tot in die veld kronkel. Die grond onder ons voete is so totaal anders as die steenstrate van Haarlem. Terwyl ons so stap, is dit eintlik onmoontlik om te glo dat die res van Europa in die bloedigste oor die menslike geskiedenis gewikkel is. Die waansin het selfs na oorkant die oseaan uitgebrei. Die koerante sê Amerika gaan ook tot die oorlog toetree. In die neutrale Holland volg die een sonnige Junie-dag op die ander. Net ’n paar mense, soos Willem, bly glo dat die oorlog ook vir Holland tragies is. Dit is dan ook die tema van sy eerste preek. Europa en die wêreld is besig om te verander, sê hy. Ongeag wie die oorlog wen, ’n leefwyse sal vir ewig verdwyn. Ek kyk rondom my na sy gemeente, die stoere dorpenaars en boere. Ek sien onmiddellik raak sulke idees staan hulle nie juis aan nie. Ná die diens begin vriende en familie van ver huis toe vertrek. Maar Karel bly. Ons gaan stap al hoe verder en langer. Dikwels gesels ons oor Karel se toekoms, en skielik praat ons nie oor wat Karel gaan doen nie, maar oor wat óns gaan doen. In ons verbeelding het ons ’n groot, ou pastorie soos Willem-hulle s’n om mooi te maak. Ons is so bly toe ons ontdek ons hou van dieselfde soort meubels, blomme en selfs kleure. Net oor hoeveel kinders ons wil hê, verskil ons. Karel wil vier hê, en koppige ek wil ses hê. Nie een keer sê een van ons die woord “troue” nie. Toe Karel op ’n dag dorp toe is, kom Willem uit die kombuis met twee koppies koffie in sy hande. Tine is vlak agter hom met haar eie koppie. “Corrie,” sê Willem terwyl hy my koffie vir my aangee, en ek kan hoor hy probeer hard om ongeërg te klink. “Het Karel jou laat glo hy…” “… is ernstig?” voltooi Tine die sin vir hom. Die haatlike blos wat ek nooit kan beheer nie slaan op my wange uit. “Ek… nee… ons… hoekom?”
Willem se gesig word ook rooi. “Omdat dit nooit sal kan gebeur nie, Corrie. Jy ken nie Karel se mense nie. Hulle begeer vir hom net een ding vandat hy klein was. Hulle het groot opofferings gemaak, daarvoor beplan, hulle lewe daarop gebou. Karel moet… ‘goed trou’. Soos hulle dit stel.” Die groot leë sitkamer lyk skielik nog leër. “Maar wat wil Karel self hê? Hy is nie meer ’n kind nie,” wil ek weet. Willem kyk na my met sy nugter oë. “Hy sal dit doen, Corrie. Ek sê nie hy wíl nie. Dis vir hom net nog ’n feit van die lewe, soos al die ander. Toe ons op universiteit gepraat het oor die meisies van wie ons hou, het hy altyd gesê: ‘Natuurlik sal ek nooit met haar kan trou nie. Dit sal my ma se dood beteken.’” Die warm koffie verbrand my mond, maar ek wurg dit af en ontsnap tuin toe. Ek haat die somber ou huis. Ek haat byna vir Willem omdat hy altyd die donker, harde kant van die lewe sien. In die tuin is dit anders. Daar is nie ’n struik of ’n blom waarna ek en Karel nie saam gekyk het nie. Aan alles kleef nog die herinnerings van ons gevoel vir mekaar. Willem weet dalk meer as ek van godsdiens en oorlog en politiek, maar wanneer dit by liefde kom, en by dinge soos geld, sosiale aansien, families se verwagtings… Nee, in die liefdesverhale verdwyn dit net soos mis voor die son, elke keer…
Sowat ’n week later vertrek Karel uit Made. Sy afskeidswoorde aan my laat my voel of ek op die wolke sweef. Eers maande later sou ek onthou hoe vreemd hy hierdie woorde gesê het, die dringendheid, byna wanhoop, in sy stem. Ons staan in die oprit van die pastorie en wag vir die kar en perd wat in Made steeds as die enigste betroubare vervoermiddel beskou word wanneer iemand ’n trein moet haal. Ons het net ná ontbyt reeds afskeid geneem. As ’n deel van my teleurgesteld is omdat hy my nog nie gevra het om met hom te trou nie, is ’n ander deel van my tevrede om nou net langs hom te staan. Skielik gryp hy albei my hande vas, sommer daar in die oprit. “Corrie, skryf vir my!” vra hy, maar nie vrolik nie. Pleitend eerder. “Vertel vir my van die Beje. Ek wil alles weet. Alles van daardie lelike, pragtige, verbrokkelende ou huis. Skryf vir my oor jou pa, Corrie. Vertel weer vir my hoe hy vergeet om sy rekenings uit te stuur. O Corrie, dis die gelukkigste huis in die
hele Holland!”
So is dit inderdaad toe ek, Pappa, Mamma, Betsie, Nollie en tannie Anna almal terug is by die huis. Ons huis was nog altyd ’n gelukkige plek, maar nou gloei elke gebeurtenis, hoe klein ook al, omdat ek dit met Karel kan deel. Elke ete wat ek kook, is ’n offer aan hom. Elke blink kastrol ’n gedig, elke vee met die besem ’n daad van liefde. Karel skryf nie so dikwels vir my soos ek vir hom nie. Maar ek skryf dit toe aan die baie werk wat hy het. Die predikant vir wie hy help, laat die huisbesoeke aan hom oor, skryf hy. Die gemeente is welgesteld en mense wat groot bydraes maak, verwag gereelde en uitgerekte besoeke van die leraars. Mettertyd word sy briewe al hoe minder. Ek vergoed daarvoor met myne, en ek neurie my pad deur die somer en herfs oop. Een heerlike, skraal Novemberdag, toe die hele Holland saam met my sing, lui die deurklokkie. Ek is nog besig om die middagete se skottelgoed in die kombuis te was, maar ek vlieg deur die eetkamer en met die trap af voor die res van die gesin kan roer. Ek pluk die deur op die stegie oop. Dis Karel. En langs hom staan ’n jong meisie. Sy kyk glimlaggend na my. Ek sien met een oogopslag die hoed met die wuiwende veer, die hermelynkragie, die hand in die wit handskoen wat op sy arm rus. Toe is dit of alles dof word. Want Karel sê: “Corrie, ontmoet my verloofde.” Ek moet seker iets sê, besef ek. Ek moet hulle seker neem na tannie Jans se voorste kamer, wat ons nou as ’n sitkamer gebruik. Ek besef in ’n waas dat my gesin tot my redding kom. Hulle praat, skud hande, neem jasse, dra stoele aan, sodat ek nie iets hoef te doen of te sê nie. Mamma verbeter selfs haar koffiemaakrekord. Tannie Anna dra die koekies aan. Betsie praat met die jong meisie oor wintermodes. Pappa keer vir Karel in ’n hoek vas en peper hom met internasionale en persoonlike vrae. Wat dink hy van die nuus dat president Wilson Amerikaanse troepe na Frankryk stuur? Op ’n manier sleep die halfuur tog verby. Wonder bo wonder kry ek dit reg om
die meisie se hand te skud, om Karel se hand te skud en hulle ’n wonderlike toekoms toe te wens. Betsie sien hulle by deur af. Nog voordat die deur behoorlik agter hulle toe is, vlug ek met die trap op na my kamer toe. En die trane begin vloei. Hoe lank ek op my bed gelê en huil het oor die enigste liefde van my lewe, weet ek nie. Later hoor ek Pappa se voetstappe met die trappe op kom. ’n Oomblik is ek weer ’n dogtertjie wat lê en wag dat hy my moet kom toemaak. Maar die seerkry wat ek nou ervaar, kan geen kombers van my af weghou nie. Skielik is ek bang oor wat Pappa vir my gaan sê. So bang hy sal sê: “Een van die dae sal daar weer iemand wees.” So bang dat die onwaarheid tussen ons sal bly lê. Want iewers diep, diep binne-in my weet ek reeds daar sal nie iemand anders wees nie, nie een van die dae nie, nooit nie. Die soet sigaarreuk kom saam met Pappa by my kamer in. Natuurlik sê hy nie vals of vroom woorde nie. “Corrie,” begin hy, “weet jy wat maak so seer? Dis liefde. Liefde is die sterkste krag in die wêreld. En wanneer dit nie beantwoord word nie, maak dit seer. Dit bring pyn. Daar is twee dinge wat ons kan doen wanneer dit gebeur. Ons kan die liefde doodmaak sodat dit nie meer seermaak nie, maar dan sterf daar natuurlik ook ’n deel van ons. Of ons kan vir God vra om ’n nuwe pad vir ons oop te maak waarlangs die liefde kan vloei, Corrie. God het vir Karel lief – selfs nog meer as jy. En as jy Hom vra, sal Hy vir jou sy liefde vir hierdie man gee. En dit is ’n liefde wat deur niks gekeer of vernietig kan word nie. Wanneer ons nie kan liefhê op ons menslike manier nie, Corrie, kan God vir ons sy volmaakte liefde gee.” Terwyl ek luister hoe Pappa se voetstappe op die wenteltrap wegsterf, besef ek nie dat hy vir my meer as die sleutel tot hierdie bitter oomblik gegee het nie. Ek weet nie dat hy in my hande die geheim geplaas het wat veel donkerder kamers as hierdie oomblik sou oopsluit nie – plekke waar daar op menslike vlak niks, absoluut niks is om lief te hê nie. Ek is nog maar in die kleuterskool wat die liefde betref. My taak nou is om my gevoel vir Karel te laat gaan sonder om die vreugde en die wonder wat daarmee saamgegroei het, te verloor. Terwyl ek op my bed lê, fluister ek ’n groot gebed. “Here, ek gee aan U wat ek vir Karel voel, al my gedagtes oor ons toekoms. U
weet. U weet alles. Gee vir my u manier om vir Karel te sien. Help my om hom lief te hê soos U hom liefhet. Ja, so baie.” Terwyl ek nog bid, raak ek aan die slaap.
4
Die horlosiewinkel
Ek staan op ’n stoel, besig om die groot venster in die eetkamer te was. Af en toe waai ek vir voetgangers in die steeg. Mamma skil aartappels in die kombuis vir middagete. Dis 1918. Die verskriklike oorlog is uiteindelik verby. Selfs net in die manier waarop mense stap, kan ’n mens die nuwe hoop aanvoel. Ek raak skielik bewus van iets. Dis nie in Mamma se aard om water so lank te laat loop nie, dink ek. Sy verkwis nooit iets nie. “Corrie.” Haar stem is sag, byna ’n fluistering. “Ja, Mamma?” “Corrie,” sê sy weer. Toe hoor ek die water oor die wasbak se rand tot op die vloer stort. Ek spring van die stoel af en hardloop kombuis toe. Mamma staan met haar hand op die kraan en staar vreemd na my terwyl die water oor die wasbak tot op haar voete loop. “Wat is fout, Mamma?” roep ek terwyl ek my hand na die kraan toe uitsteek. Ek maak haar klemmende vingers los, draai die kraan toe en trek haar weg uit die waterplas op die vloer. “Corrie.” “Mamma, jy is siek! Ons moet jou in die bed kry.”
“Corrie.”
Ek sit my arm om haar lyf, stuur haar deur die eetkamer en met die trap op. Toe sy my so dringend hoor roep, kom tannie Anna met die trap af en neem Mamma se een arm styf vas. Saam kry ons haar op haar bed. Ek storm dadelik af winkel toe om vir Pappa en Betsie te gaan roep. ’n Uur lank kyk ons vier hoe die gevolge van die serebrale bloeding stadig oor haar hele liggaam versprei. Dit lyk asof die verlamming eers haar hande aantas, van daar teen haar arms op trek en dan na haar bene versprei. Dr Van Veen kan weinig meer as ons doen. Uiteindelik verloor Mamma haar bewussyn. Haar oë is die een oomblik nog oop en wakker. Sy kyk liefdevol na ons elkeen, en dan gaan hulle stadig toe. So stadig dat ons seker is sy is dood. Maar dr Van Veen sê sy is net in ’n baie diep koma, en uit die koma sal sy óf stadig die dood binnegly óf na die lewe terugkom. Twee maande lank lê Mamma bewusteloos. Ons vyf, met Nollie op aandskof, maak beurte om langs haar bed te waak. Een oggend, net so skielik soos die beroerte gekom het, maak Mamma haar oë weer oop en kyk om haar rond. Uiteindelik herwin sy die gebruik van haar arms en bene in so ’n mate dat sy weer sonder hulp kan rondbeweeg, al sal haar hande nooit weer hekel- of breinaalde vashou nie. Ons verskuif haar uit die slaapkamertjie wat op die baksteenmuur uitkyk na tannie Jans se voorste kamer. Van daar kan sy op die besige lewe in Barteljorisstraat afkyk. Ons kan baie gou sien dat haar verstand net so helder soos voorheen is, maar sy kan nie meer praat nie. Al wat Mamma kan sê, is drie woorde – “ja” en “nee”, en dit sê sy waarskynlik omdat dit die laaste woorde is wat sy gesê het. En die derde woord is “Corrie”. Sy noem almal nou “Corrie”. Om met haar te kan kommunikeer, ontwerp ons ’n speletjie. “Corrie,” sê Mamma.
“Wat, Mamma? Dink jy aan iemand?” “Ja.” “Iemand in ons familie?” “Nee.” “Iemand wat Mamma in die straat gesien het?” “Ja.” “Was dit ’n ou vriend?” “Ja.” “’n Man?” “Nee.” Dan is dit ’n vrou wat Mamma al jare lank ken. “Mamma, ek wed jou dis iemand se verjaarsdag!” Ek roep die name een vir een uit totdat ek haar blye “ja” hoor, en skryf dan vir die spesifieke persoon ’n briefie om te sê Mamma het hom of haar in die straat sien loop en sy wens hom of haar ’n gelukkige verjaarsdag toe. Elke keer sit ek die pen in haar krampagtig stywe vingers sodat sy self die brief kan teken. ’n Hoekige krapskrif is al wat van haar pragtige, krullerige handtekening oorgebly het, maar almal in die ganse Haarlem leer ken dit gou en almal is versot op hulle briefies. Dis werklik verbasend, die gehalte van die lewe wat sy met haar geknakte liggaam kan leef. Deur haar dop te hou in die drie jaar dat sy verlam is, maak ek nog ’n ontdekking oor die liefde. Mamma se liefde het nog altyd vervulling gevind daarin om vir ander mense kos en klere te gee. Maar noudat sy dit nie meer kan doen nie, lyk haar liefde nog net so heel soos voorheen. Mamma sit in haar stoel en sy is lief vir ons. Sy is lief vir die mense wat sy in die straat sien. Meer nog, haar liefde omsluit die hele stad en die hele Holland, die hele wêreld! Só leer ek dat liefde groter is as die mure wat dit insluit.
Nollie praat tydens aandete al hoe meer oor ’n jong manlike kollega, Flip van Woerden, wat by dieselfde skool as sy skoolhou. Teen die tyd dat mnr Van Woerden vir Pappa amptelik kom besoek, het Pappa reeds sy toespraak van seënwense tientalle keer geoefen en verbeter. Die aand voor die troue, toe Betsie en ek haar oplig en in die bed sit, bars Mamma skielik in trane uit. Deur ons speletjie ontdek ons, nee, sy is nie ongelukkig oor die troue nie; ja, sy hou baie van Flip. Sy huil omdat die ernstige ma-dogter-gesprek wat sy deur al die jare vir dié aand gebêre het, die omvattende seksuele voorligting waaroor ons gemeenskap so swygsaam is, nou nie meer moontlik is nie. Op die ou end is dit tannie Anna wat later die aand die trappies na Nollie se kamer uitklim. Haar oë is wyd en haar wange vlam. Jare gelede reeds het Nollie in tannie Bep se hoekie ingetrek. Sy en tannie Anna bly die hele voorgeskrewe halfuur agter die toe deur. In die ganse Holland is daar seker niemand wat swakker ingelig is oor die huwelik as tannie Anna nie, maar ritueel is nou eenmaal ritueel: die ouer vrou wat deur die eeue heen die jonger vrou raadgee. Net so min as wat jy met die ring kan wegdoen, net so min kan jy hierdie oorgelewerde tradisie ignoreer. Nollie is die volgende dag stralend in haar lang wit rok. Maar dis van Mamma dat ek my oë nie kan wegskeur nie. Al is sy in swart geklee, soos gewoonlik, lyk sy skielik soos ’n jong meisie. Haar oë skitter van vreugde oor die grootste geleentheid wat die Ten Booms nog ooit gehou het. Ek en Betsie het haar vroeg al kerk toe geneem. Ek is seker die meeste van die Van Woerden-familie en hulle vriende sou nooit kon droom dat die aantreklike vrou in die voorste ry nie kan loop of praat nie. Eers toe Nollie en Flip saam in die paadjie af stap, dink ek vir die eerste keer aan my drome oor so ’n oomblik saam met Karel. Ek kyk na Betsie wat so grasieus en pragtig langs Mamma sit. Betsie het nog altyd geweet sy sal weens haar swak gesondheid nooit kinders kan hê nie. Daarom het sy lank gelede reeds besluit om nooit te trou nie. Ek is nou sewe en twintig, en Betsie al halfpad deur haar dertigerjare. En ek weet dit is soos dit gaan wees: Ek en Betsie, die ongetroude dogters wat in die Beje bly woon.
Dit is ’n vrolike gedagte, nie ’n hartseer een nie. Dit is die oomblik waarop ek sonder twyfel weet God het die aarselende geskenk van my gevoelens wat ek vier jaar vroeër vir Hom aangebied het, aanvaar. Want toe ek aan Karel dink – glansend van liefde soos altyd, soos ek nog altyd aan hom gedink het sedert ek veertien was – ervaar ek geen pyn nie. “Seën vir Karel, Jesus,” fluister ek saggies, “en seën haar. Hou hulle naby aan mekaar en naby aan U.” Dit is ’n gebed, weet ek vir seker, wat nie sonder hulp aan Corrie ten Boom kon ontstaan het nie. Die grootste wonderwerk gebeur egter later die dag. Om die diens af te sluit sing ons Mamma se gunsteling-lied. Terwyl ek staan en sing, hoor ek agter my in die bank Mamma se stem. Sy sing. Woord vir woord, vers vir vers, sing sy saam. Mamma wat nie vier woorde kan praat nie, sing die pragtige verse sonder om te stamel. Haar stem wat vroeër so hoog en helder was, is nou hees en krakerig, maar vir my is dit die stem van ’n engel. Sy sing die hele lied. Ek bly stip voor my kyk, te bang om om te draai en die betowerende oomblik te vernietig. Toe almal weer gaan sit, is Mamma se oë, én myne en Betsie s’n, vol trane. Ons het gehoop dit sou die begin van Mamma se herstel wees. Maar die woorde wat sy gesing het, kon sy nie sê nie. En sy het nooit weer gesing nie. Dit was ’n geïsoleerde oomblik, ’n geskenk van God. Sy spesiale huweliksgeskenk. Vier weke later, met ’n glimlag op haar lippe, glip Mammie saggies in haar slaap van ons af weg.
Laat in November van daardie jaar gebeur dit dat ’n gewone verkoue ’n groot verandering in ons lewe teweegbring. Betsie begin snuif en nies. Pappa besluit dat sy nie meer agter die winkeltoonbank moet staan nie, want die winkeldeur laat die bytende winterlug op haar in. Maar Kersfees, die winkel se besigste tyd, is net om die draai. Met Betsie in die bed, gaan ek dikwels so gou ek kan ondertoe om klante te bedien, pakkies toe te draai en te keer dat Pappa tientalle kere van sy groot werksbank af moet opstaan om in die winkel te help. Tannie Anna dring aan dat sy kan kook en sommer vir Betsie ook kan oppas. Só
neem ek toe Betsie se plek in die winkel in. Ek skryf die verkope en die herstelkoste neer, hou boek van onderdele en voorraad, en blaai deur vorige verslae. Ek kan my oë nie glo nie. Daar is geen stelsel nie! Geen manier waarvolgens ’n mens kan sê of ’n rekening betaal is of nie, of die prys wat ons vra te hoog of te laag is nie, inderdaad geen manier om te weet of ons ’n wins maak of nie. Een wintermiddag stap ek haastig in die straat af na die boekwinkel en koop ’n hele stel nuwe grootboeke. Ek probeer orde uit die deurmekaarspul skep. Baie nagte nadat die deur al gesluit en die luike toe is, sit ek by die flikkerende gaslig en bestudeer ou inventarisse en groothandelaars se rekeninge. Of ek vra vir Pappa. “Hoeveel het Pappa vir mnr Hoek vir daardie herstelwerk van verlede maand gevra?” Pappa kyk na my asof hy nie mooi begryp nie. “Wel… ag, my kind… Ek kan regtig nie…” “Dit was ’n Vacheron, ’n oue. Pappa moes die onderdele al die pad van Switserland af laat kom. Hier is hulle rekening en…” Sy gesig verhelder. “Natuurlik onthou ek! ’n Pragtige horlosie, Corrie. Wat ’n plesier was dit om daaraan te werk. Baie oud, maar die man het stof in hom laat kom. ’n Uitstekende horlosie moet volkome skoon gehou word, my kind.” “Maar hoeveel het Pappa hom gevra?” Ek ontwikkel ’n stelsel om die rekeninge by te hou en my kolomme syfers stem al hoe meer met die werklike transaksies ooreen. Ek ontdek dat ek al hoe meer daarvan hou. Ek was nog altyd gelukkig in die winkeltjie met sy baie stemmetjies en rakke vol blink gesiggies. Maar nou ontdek ek dat ek van die sakekant ook hou, dat ek van katalogusse en voorraadlyste en die hele besige, energieke handelswêreld hou. Af en toe onthou ek dat Betsie se verkoue na haar bors versprei het en, soos altyd, dreig om in longontsteking oor te gaan. Dan verwyt ek my dat ek nie meer ontsteld is oor die huidige reëling nie. Terwyl ek snags na die folterende gehoes
uit haar kamer luister, bid ek met my hele hart dat sy dadelik beter moet word. Een aand, twee dae voor Kersfees, toe ek die winkel klaar vir die dag toegemaak het en besig is om die portaaldeur te sluit, kom Betsie uit die stegie ingebars met haar arms vol blomme. Toe sy my daar sien, lyk haar oë soos dié van ’n skuldige kind. “Vir Kersfees, Corrie,” pleit sy. “Ons moet tog blomme vir Kersfees hê.” “Betsie ten Boom!” ontplof ek. “Hoe lank gaan dit nou al aan? G’n wonder jy word nie beter nie!” “Ek bly die meeste van die tyd in die bed, regtig…” Sy bly stil toe ’n hewige hoesbui deur haar lyf ruk. “Ek het net vir die baie belangrike dinge opgestaan.” Ek stop haar in die bed en gaan snuffel met nuwe oë deur die kamers, op soek na Betsie se “belangrike dinge”. Ek kan nie glo van hoe min dinge ek salig onbewus was nie. Betsie het oral veranderings aangebring. Haastig stryk ek terug na haar kamer toe en konfronteer haar met die bewyse. “Was dit regtig so belangrik, Betsie, om al die breekgoed in die kas in die hoek anders te pak?” Sy kyk na my op en haar gesig word rooi. “Ja, dit was,” sê sy uitdagend. “Jy het hulle sommer so deurmekaar ingepak.” “En die deur na tannie Jans se kamers? Iemand het met verfverwyderaar daaraan gewerk… én met skuurpapier. Dit is harde werk.” “Maar daar is pragtige hout onder al die verf. Ek weet dit. Jare lank al wil ek daardie ou vernis afkry en sien wat onder die lae is. Ag, Corrie,” sê sy, haar stem dun en vol berou, “ek weet dis aaklig en selfsugtig van my terwyl jy dag ná dag in die winkel moet bly. Ek sal myself beter oppas sodat jy dit nie veel langer hoef te doen nie. Maar dis ook so lekker om heeldag hier te wees, om te maak of ek in beheer is, jy weet, om te beplan wat ek wil doen…” Só kom die waarheid toe uit. Ons het die werk verkeerdom uitgedeel. En dis verstommend hoe goed alles gaan noudat ons wel ons take omgeruil het. Onder my sorg was die huis altyd skoon; onder Betsie s’n skitter dit. Sy sien skoonheid in hout, in patrone, in kleur, en sy help ons om dit ook raak te sien. Die klein kosbegroting wat nouliks my besoeke aan die slagter oorleef en by die bakkery heeltemal verdwyn het, rek nou onder Betsie se bestuur. Daarom kan sy
allerhande lekker dinge insluit wat ons nog nooit voorheen op ons tafel gehad het nie. “Wag net totdat julle vanmiddag se nagereg sien!” sê sy gereeld vir ons aan ontbyttafel. En die hele dag in die winkel lê haar woorde vlak in ons gedagtes. Die sopkastrol en die koffiepot agter op die stoof, waarvoor ek nooit tyd gehad het nie, begin prut weer in die eerste week nadat Betsie die huishouding oorgeneem het. Gou is daar weer ’n stroom posbodes, konstabels, verweerde bejaardes en bewende jong mans wat ’n paar oomblikke in ons steegdeur gaan staan om hulle voete te stamp en hulle hande om warm bekers te vou, net soos in Mamma se tyd. Intussen vind ek in die winkel groter vreugde in my werk as wat ek ooit kon droom. Baie gou weet ek wat ek wil doen. Eerder as om klante te bedien en die rekeninge by te hou, wil ek self leer hoe om horlosies te herstel. Pappa pak die taak om my te leer gretig aan. Uiteindelik leer ek die bewegende en stilstaande dele ken, die chemie van olies en oplossings, die gereedskap en slypskyf en tegnieke met die vergrootglas. Maar Pappa se geduld, sy byna geheimsinnige eenheid met die harmonie van horlosieratjies, is iets wat ’n mens nie geleer kan word nie. Polshorlosies is nou in die mode en ek skryf in by ’n skool wat in dié soort werk spesialiseer. Drie jaar ná Mamma se dood word ek die eerste gelisensieerde vroulike horlosiemaker in Holland. Só word die patroon vasgelê wat ons lewe die volgende twintig jaar kenmerk. Wanneer Pappa ná ontbyt die Bybel op sy rakkie neersit, stap ek en hy met die trap af winkel toe. Betsie begin die sop roer en towerkunsies uitdink met drie aartappels en ’n halwe kilogram skaapvleis. Met my wakende oog op die inkomste en uitgawes gaan dit veel beter met die winkel. Sommer gou kan ons ’n verkoopsdame in diens neem om met die klante te werk terwyl ek en Pappa agter met die horlosies werk. Daar is ’n voortdurende deurloop deur die agterste kamertjie. Soms is dit ’n klant, maar meer dikwels net ’n besoeker – van ’n arbeider met sy houtklompe tot by die eienaar van ’n vloot skepe. Almal kom na Pappa toe met hulle probleme. Heeltemal onbeskaamd oor die aanwesigheid van klante in die voorste kamer en ons werknemers rondom ons, buig Pappa dan sy kop en bid vir ’n
antwoord. Hy bid ook soms terwyl hy werk. Daar is min herstelprobleme wat hy nog nie teëgekom het nie, maar af en toe beland daar een op ons werkstafel wat selfs vir Pappa dronkslaan. Dan hoor ek hom sê: “Here, U laat die ratte van die sterrehemel draai. U weet wat die planete laat wentel. U weet wat dié horlosie laat tik…” Die besondere verwysingsveld van die gebed is altyd verskillend, want Pappa – wat so lief is vir die wetenskap – is ’n gretige leser. Hy verslind tientalle vaktydskrifte van die universiteit. Deur die jare heen neem hy sy probleemhorlosies na “die Een wat die atome laat dans” of “die Een wat die groot golfstrome aanhoudend deur die see laat kring”. Skynbaar kom die antwoorde op sy gebede dikwels in die middel van die nag, want baie oggende gaan sit ek op my stoel en vind dat die horlosie wat ons in honderd wanhopige stukke laat lê het, aanmekaargesit is en ewe vrolik tik. Die een taak in die winkel wat ek nie so goed soos Betsie kan doen nie, is om ’n spesiale toegeneentheid te ervaar teenoor elke persoon wat by die deur instap. Wanneer ’n klant instap, glip ek dikwels by die agterdeur uit na Betsie in die kombuis. “Betsie, wie is die vrou met die Alpina-lapelhorlosie op ’n blou fluweelband, geset, omtrent vyftig jaar oud?” “Dis mev Van den Keukel. Haar broer het van Indonesië af teruggekeer, siek van die malaria. Sy verpleeg hom steeds. Corrie,” roep sy agterna wanneer ek weer met die trap af draf, “vra vir haar hoe dit met mev Rinker se baba gaan.” Mev Van den Keukel, wat die winkel ’n paar minute later verlaat, sal later verkeerdelik aan haar man sê: “Daardie Corrie ten Boom is net so gaaf soos haar suster.”
Selfs voor tannie Anna se dood in die laat 1920’s begin die beddens in die Beje weer vol raak met ’n rits pleegkinders. Hulle gelag weergalm meer as tien jaar deur die ou huis en hulle hou vir Betsie besig, want sy moet kort-kort some en broekspype verstel. Intussen groei Willem en Nollie se onderskeie gesinne. Willem en Tine het vier kinders, en Nollie en Flip het ses. Willem is lankal weg uit die gemeentelike
bediening. Sy gewoonte om die naakte waarheid te verkondig het ’n hele paar gemeentes bitter ongelukkig gemaak. Toe begin hy met sy verpleeginrigting in Hilversum, agt en veertig kilometer van Haarlem af. Ons sien vir Nollie en haar gesin meer dikwels, aangesien hulle skool, waar Flip nou die hoof is, in Haarlem self is. Daar gaan selde ’n dag verby dat een van die gesin nie by die Beje opdaag om by Oupa by sy werksbank te sit en kuier, om in tannie Betsie se mengbak te loer of om saam met die pleegkinders met die trap op en af te hardloop nie. Dit is inderdaad in die Beje waar ons die eerste keer die jong Peter se musiektalent ontdek. Dit gebeur een aand terwyl ons almal om ons radio sit. Ons het by die huis van ’n vriend vir die eerste keer van dié moderne wonder bewus geword. ’n “Ganse orkes”, het ons onophoudelik vir mekaar sê. Om ’n hele orkes in so ’n klein kassie te laat speel het vir ons uiters moeilik gelyk. Ons het ons sente begin spaar om ons eie radio te koop. Lank voordat ons die geld bymekaar kon hê, het Pappa siek geword van lewerontsteking, wat hom byna sy lewe gekos het. Tydens sy lang verblyf in die hospitaal het sy baard spierwit geword. Die dag nadat hy teruggekom het huis toe, ’n week ná sy sewentigste verjaarsdag, kry ons besoek van ’n klein komitee wat uit winkeleienaars, straatskoonmakers, ’n fabriekseienaar en ’n kanaalskuitvoerder bestaan – almal mense wat tydens Pappa se siekte besef het wat hy vir hulle beteken. Almal het bygedra en vir hom ’n radio gekoop. Dis ’n groot tafelmodel met ’n sierlike, skulpvormige luidspreker, en hierdie radio verskaf ons baie jare vol vreugde. Elke Sondag fynkam Betsie die koerante – Engels, Frans, Duits en Hollands – om die week se program van musiekkonserte en -uitvoerings te beplan. Een Sondagmiddag, toe Nollie en haar gesin by ons kuier, sê Peter skielik iets in die middel van ’n Brahms-concerto. “Dis snaaks dat hulle ’n vals klavier oor die radio laat speel.” “Sjt,” sê Nollie, maar Pappa vra: “Wat bedoel jy, Peter?” “Een van die note is verkeerd.” Ons kyk vir mekaar. Wat weet ’n agtjarige? Maar Pappa lei die seun na tannie
Jans se regop klavier toe. “Watter noot is dit, Peter?” Peter druk die klawers met die toonleer op totdat hy by B bokant middel-C kom. “Dié een,” sê hy. Toe hoor almal in die vertrek dit ook: die B op die vleuelklavier is vals. Ek sit die res van die middag langs Peter op die klavierbankie en gee vir hom eenvoudige musikale probleme om op te los. Só ontdek ek ’n fenomenale musiekgeheue en ’n perfekte oor vir musiek. Peter word my musiekstudent totdat hy ses maande later alles geleer het wat ek ken en na ’n meer kundige onderwyser vorder. Die radio bring nog ’n verandering in ons lewe, een waarvan Pappa aan die begin niks wil weet nie. Elke uur kan ons Big Ben oor die BBC se stasie die ure hoor aftel. Met sy stophorlosie in sy hand, reggestel volgens die astronomiehorlosie in die winkel, gee Pappa egter later toe dat die eerste slag van die Engelse horlosie keer op keer op die uur is. Tog bly Pappa agterdogtig teenoor dié Engelse tyd. Hy ken ’n hele paar Engelse, sê hy, en hulle is altyd sonder uitsondering laat. So gou hy weer sterk genoeg is om ’n treinrit te onderneem, sal hy weer elke week Amsterdam toe reis om die tyd by die Vloot se observatorium te kry. Namate die maande verbyglip en Big Ben en die observatorium se horlosie in perfekte harmonie aanstryk, gaan hy egter minder gereeld en later glad nie meer Amsterdam toe nie. Die astronomie-horlosie word in elk geval so geruk en geskud deur die aanhoudende geratel van die verkeer in die nou straatjie buite die gebou dat dit nie meer die noukeurige instrument van vroeër is nie. Die laaste druppel aan die emmer is die dag toe Pappa die astronomie-horlosie volgens die radio instel. Ten spyte hiervan en ander veranderings, bly die lewe vir ons drie – ek, Pappa en Betsie – min of meer dieselfde. Ons pleegkinders word groot en verlaat die huis om te begin werk of om te trou, maar hulle kom dikwels kuier. Die honderdste verjaarsdag van die winkel kom en gaan, en die volgende dag is ek en Pappa terug voor ons werksbanke, soos altyd. Selfs die mense by wie ons verbyloop wanneer ons elke dag gaan stap, is geheel en al voorspelbaar. Dit is reeds jare ná Pappa se siekte, maar hy gaan stap steeds
elke dag deur die onderdorp se strate, hoewel wankelrig, en ek vergesel hom elke keer. Ons gaan stap elke dag om presies dieselfde tyd, ná middagete en voor die winkel om twee-uur weer oopmaak, en volg altyd op dieselfde roete. Omdat ander Haarlemmers net sulke vaste gewoontes het, weet ons presies vir wie ons sal raakloop. Baie van die mense vir wie ons knik, is ou vriende of klante; ander ken ons slegs uit dié daaglikse ontmoeting – die vrou in Koningstraat wat haar trappies vee, die man wat die World Shipping News by die tremhalte op die Grote Markt lees, en ons gunsteling, die man vir wie ons Bulhond sê. Nie net omdat ons hom nooit sonder sy twee bulhonde aan ’n leiband sien nie, maar omdat hy met sy verrimpelde gesig en hangwange op ’n haar na soos sy honde lyk. Sy duidelike liefde vir die diere gryp ons egter aan. Terwyl hulle stap, praat hy mompelend met hulle en maak ’n groot ophef van hulle. Pappa en Bulhond raak altyd aan hulle hoede in ’n seremoniële groet wanneer ons by mekaar verbystap.
Terwyl Haarlem en die res van Holland stap en werk en trappies vee, berei die buurman aan ons oostekant hom vir oorlog voor. Ons weet wat gaan gebeur, en dit kan ook nie anders nie. Dikwels in die aande wanneer ons die radio se knoppie draai, hoor ons ’n stem uit Duitsland praat. Nee, nie praat nie; die stem gil en skree. Eienaardig genoeg is dit die bedaarde Betsie by wie dit die sterkste reaksie veroorsaak. Sy vlieg uit haar stoel op, duik byna op die radio af en maak dit stil. Tog vergeet ons rukke lank van die bedreiging. Selfs wanneer Willem kom kuier en ons nie wíl laat vergeet nie, of wanneer ons briewe aan Joodse verskaffers terugkom met “Adres onbekend” daarop geskryf, kry ons dit tog op ’n manier reg om te glo alles is ten diepste Duitsland se probleem. “Hoe lank sal die volk nog daarmee verlief neem?” vra ons. “Hulle sal dié man tog nie meer lank kan duld nie.” Net een keer bereik die veranderings in Duitsland die winkeltjie in Barteljorisstraat… in die persoon van ’n jong Duitse horlosiemaker. Vroeër het Duitsers dikwels ’n tyd lank onder Pappa kom werk. Sy reputasie as horlosiemaker strek immers tot ver anderkant Holland se grense. Toe die lang, aantreklike jong man dus by ons opdaag met skriftelike bewyse van sy vakleerlingskap van ’n goeie Berlynse firma, neem Pappa hom dadelik in diens.
Otto vertel met trots vir ons dat hy ’n lid van die Hitler-jeugbeweging is. Dit is inderdaad vir ons ’n raaisel hoekom hy dan Holland toe wou kom, want hy vind gedurig fout met die Hollandse mense en produkte. “Die wêreld sal nog sien wat die Duitsers alles kan doen,” sê hy dikwels. Op sy eerste oggend by die werk kom hy saam met die ander werknemers boontoe vir die oggendkoffie en huisgodsdiens, maar daarna nooit weer nie. Hy bly alleen onder in die winkel agter. Toe ons hom daaroor uitvra, antwoord hy dat, al verstaan hy nie Nederlands nie, hy gesien het Pappa lees uit die Ou Testament. En dít, sê hy vir ons, is die Jode se “boek van leuens”. Ek is geskok, maar Pappa is net hartseer. “Hy is verkeerd geleer,” sê Pappa vir my. “Hy sal ons dophou en sien hoe lief ons vir dié Boek is. Hy sal besef dat ons opregte mense is. En dan sal hy sy fout insien.” ’n Paar weke later maak Betsie die portaaldeur oop en wink vir my en Pappa. Op tannie Jans se hoë mahoniehoutstoel vind ons die eienares van die losieshuis waar Otto bly. Toe sy daardie oggend sy bed skoon oortrek, vertel sy, het sy iets onder sy kussing gekry. Uit haar markmandjie trek sy ’n mes met ’n krom lem, ongeveer vyf en twintig sentimeter lank. Weereens gee Pappa vir Otto die voordeel van die twyfel. “Die seun is waarskynlik bang en voel alleen in ’n vreemde land. Hy het dit seker maar gekoop om homself mee te beskerm.” Dat Otto ’n alleenloper is, is beslis waar. Hy kan nie Hollands praat nie en probeer ook nie eens om die taal aan te leer nie. Buiten ek, Pappa en Betsie, is daar min mense in dié werkersklasgebied van Haarlem wat Duits magtig is. Ons nooi hom weer en weer om saans by ons te kuier. Ek weet nie of hy dalk nie hou van ons keuse van radioprogramme en of dit is omdat ons saans afsluit soos ons soggens begin – met huisgodsdiens – nie, maar hy kom selde. Op die ou end ontslaan Pappa vir Otto, die eerste werknemer in meer as sestig jaar wat hy afdank. Dit is nie die mes of die anti-Semitiese ingesteldheid wat Pappa motiveer om dit te doen nie, maar die manier waarop Otto vir Christoffels, die ou horlosiemaker, behandel. Van die begin af staan ek verstom oor die kortaf manier waarop hy vir Christoffels hanteer. Dit is nie soseer wat Otto doen nie – altans, nie voor ons nie – maar eerder wat hy nié doen nie. Hy staan nie opsy sodat die bejaarde
Christoffels eerste kan stap nie; hy help hom nie om sy jas aan te trek nie; hy tel nie ’n stuk gereedskap wat Christoffels laat val vir hom op nie. Dit is moeilik om ’n vinger op die probleem te lê. Een Sondag toe ek, Pappa en Betsie by Willem-hulle in Hilversum gaan eet, praat ek oor Otto se gesindheid, wat ek as blote onbedagsaamheid beskou. Willem skud sy kop. “Hy doen dit opsetlik. Omdat Christoffels al oud is. Bejaardes het in die oë van die Duitse staat geen waarde nie. Dit is ook moeiliker om hulle in die nuwe denkrigtings op te lei. Duitsland kweek stelselmatig ’n gebrek aan respek vir bejaardes by sy jeug.” Ons gaap hom ongelowig aan terwyl ons probeer om sy verduideliking te verwerk. “Jy maak tog seker ’n fout, Willem,” sê Pappa. “Otto is dan uiters beleef teenoor my en ek is baie ouer as Christoffels.” “Dis anders. Pappa is sy werkgewer. Dit is nog ’n deel van Duitsland se stelsel: respek vir gesag. Dié wat oud en swak is, moet egter uitgeskakel word.” Ons ry doodstil en geskok met die trein terug huis toe. Van toe af begin ons Otto fyner dophou. Hoe kon ons weet, of hoe kon ons raai, dat dit in die Holland van 1939 nie in die winkel is dat ons hom moet dophou nie, maar eintlik in die strate en stegies buitekant die winkel. Daar waar Otto vir Christoffels regtig begin vervolg, in watter geringe mate ook al. ’n Botsing hier en ’n pootjie daar. Alles natuurlik per ongeluk. Hier ’n stamp, daar ’n hak wat op ’n toon trap en boonop gedraai word. Dit maak die bejaarde Christoffels se reis tussen sy huis en sy werk ’n ware nagmerrie. Christoffels met sy regop rug en verslete klere is egter gans te trots om vir een van ons van dié dinge te vertel. Dit is eers op een ysige oggend in Februarie, toe Christoffels by die eetkamer instrompel met bloed op sy wang en sy jas geskeur, dat die waarheid uitkom. En selfs toe sê Christoffels niks nie. Toe ek straat af hardloop om sy hoed te gaan optel, kry ek Otto daar, omring deur ’n klompie verontwaardigde mense wat gesien het wat gebeur het. Toe Christoffels om die hoek van die steeg kom, vertel hulle, het Otto hom moedswillig teen die kant van die gebou vasgedruk en sy gesig teen die growwe stene laat skuur. Pappa probeer met Otto praat en vir hom verduidelik hoekom sy optrede verkeerd is. Otto antwoord hom nie eens nie. Onder doodse stilte maak hy die paar stukkies gereedskap wat hy saam met hom gebring het bymekaar, en onder
doodse stilte verlaat hy die winkel. Eers by die deur draai hy om om na ons te kyk. Ek het nog nooit voorheen oë so vol veragting gesien nie.
5
Die inval
Die dun wysers van die horlosie teen die muur by die trap staan op vyf en twintig oor nege toe ons by die eetkamer uitloop. Dit op sigself is ongewoon in ons reëlmatige lewe. Pappa is nou al tagtig, en stiptelik om kwart voor nege elke aand – ’n uur vroeër as gewoonlik – maak hy sy Bybel oop, die teken dat die huisgodsdiens gaan begin. Hy lees een hoofstuk, vra God om ons deur die nag te seën en te bewaar, en om kwart oor nege klim hy met die trap op na sy kamer toe. Maar vanaand gaan die eerste minister die volk om halftien toespreek. Een enkele vraag teister die hele Holland: Gaan daar oorlog uitbreek? Ons stap met die draaitrap op na tannie Jans se kamer en Pappa laat die groot tafelradio warm word. Ons luister nou nie meer so baie aande musiek op die radio nie. Engeland, Frankryk en Duitsland is reeds in die oorlog betrokke; hulle stasies saai meestal oorlogsverslae of kodeboodskappe uit en baie frekwensies is versper. Selfs Hollandse stasies saai grotendeels oorlognuus uit. En dit kan ons net sowel op die klein draagbare radio hoor wat ons nou in die eetkamer het, ’n geskenk van Pickwick verlede Kersfees. Omdat vanaand se uitsending so belangrik is, voel ons egter dit is net reg om oor die versierde luidspreker daarna te luister. Ons sit en wag vir halftien, gespanne en kiertsregop op ons stoele met die hoë rugleunings. Asof dit ’n soort voorgevoel is, vermy ons die gemaklike stoele met die kussings. Skielik hoor ons die eerste minister se stem, welluidend en gerusstellend. Daar sal nie oorlog wees nie. Gesagvolle bronne van albei kant het hom dit verseker. Holland se neutraliteit sal gerespekteer word. Dit sal net ’n herhaling van die Groot Oorlog wees. Ons hoef niks te vrees nie. Die Hollanders word dringend versoek om kalm te bly en… Die stem raak stil. Ek en Betsie kyk verstom op. Pappa het die radio afgeskakel.
In sy blou oë brand ’n vuur wat ons nog nooit voorheen gesien het nie. “Dit is verkeerd om mense hoop te gee as daar geen hoop is nie,” verklaar hy. “Dit is verkeerd om geloof op wense te bou. Daar gaan oorlog wees. Die Duitsers gaan aanval en ons gaan val.” Hy druk sy sigaar in die asbak langs die radio dood en daarmee, só lyk dit, blus hy ook sy woede, want sy stem word weer sag. “O my liewe kinders, ek is so jammer vir al die Hollanders wat nie die mag van God ken nie, want ons gaan verslaan word. Maar Hy sal nie.” Hy soen ons albei nag, en ons hoor die treë van ’n ou man wat met die trap op na sy kamer toe gaan. Ek en Betsie sit vasgenael op ons stoele. As Pappa, wat altyd so vaardig is om die goeie in elke situasie te sien en so stadig om te glo iets is boos, die oorlog en neerlaag sien… nou ja, dan is daar geen ander moontlikheid nie.
Ek sit penregop in my bed. Wat was dit? Daar! Daar is dit weer! ’n Helder flits en ’n sekonde later ’n ontploffing wat my bed laat skud. Ek klouter oor die bed na die venster toe en leun uit. Die stukkie lug bokant die skoorstene gloei oranjerooi. Voel-voel in die donkerte kry ek my kamerjas in die hande en steek my arms deur die moue terwyl ek met die trap af hardloop. By Pappa se kamer druk ek my oor teen die deur. Tussen die ontploffing van bomme deur hoor ek die reëlmatige ritme van sy asemhaling. Ek spring nog ’n paar trappies af en bars by tannie Jans se kamers in. Betsie het lankal in tannie Jans se slaaphokkie ingetrek sodat sy nader aan die kombuis en die deurklokkie kan wees. Ek soek na haar in die donkerte. Ook sy sit regop op haar bed en ons hou mekaar styf was. “Oorlog,” sê ons saam. Dit is vyf uur ná die eerste minister se toespraak. Hoe lank ons so aan mekaar vasklou en na die bomme luister, kan ek nie sê nie. Dit klink of die grootste deel van die aanval uit die rigting van die lughawe kom. Uiteindelik loop ons onseker op ons tone na tannie Jans se voorste kamer toe. Die gloed in die lug verlig die kamer met ’n vreemde gloed. Die stoele, die mahoniehoutboekrak, die ou regop
klavier – alles pols met ’n onheilspellende lig. Ek en Betsie kniel langs die klavierstoeltjie. Dit voel of ons ure lank vir ons land, vir die dooies en beseerdes in dié nag en vir die koningin bid. En toe, hoe ongelooflik dit ook al klink, bid Betsie vir die Duitsers in hulle vliegtuie, vasgevang in die kloue van die reusagtige boosheid wat in Duitsland uitgebreek het. Ek kyk in die lig van die brandende Holland na my suster wat langs my kniel. “O Here,” fluister ek. “Luister na Betsie, nie na my nie, want ek kan glad nie vir daardie mans bid nie.” Skielik begin ek droom. Eintlik kan ek dit nie ’n werklike droom noem nie, want ek weet ek slaap nie. Maar ek sien ’n toneel voor my afspeel. Ek sien die Grote Markt, ’n halwe blok van ons af weg, so helder asof ek self daar staan. Ek sien die stadsaal en Sint Bavo en die vismark. Terwyl ek daar staan en na alles rondom my kyk, kom ’n vreemde plaaswa – outyds en beslis uit sy plek in die middel van ’n stad – rammelend oor die plein aangerol. Vier reusagtige swart perde trek die wa. Tot my verbasing sien ek myself op die wa sit. En Pappa. En Betsie. Daar is baie ander mense op die wa, sommige vreemdelinge, sommige vriende. Ek herken vir Pickwick en Toos, vir Willem en die jong Peter. Saam trek die perde ons stadig oor die plein weg. Die ergste van alles is dat ons nie van die wa kan afklim nie. Dit neem ons weg – ver weg, voel ek – maar ons wil nie gaan nie… “Betsie!” skreeu ek. Ek spring op en druk my hande oor my oë. “Betsie, ek het nou so ’n aaklige droom gehad!” Ek voel haar arm om my skouer. “Kom ons gaan kombuis toe waar ons die lig nie sal sien nie. Ek sal vir ons ’n groot pot koffie maak.” Die gedonder van bomme wat ontplof raak al hoe minder en klink al hoe verder weg. Betsie sit die water aan. Nader aan ons klink die gehuil van brandalarms en die geloei van brandweerwaens op. Terwyl ons by die stoof staan en koffie drink, vertel ek vir Betsie wat ek in my droom gesien het. “Verbeel ek my hierdie dinge omdat ek bang is? Nee, dit kan nie wees nie. Dit was so werklik. O Betsie, was dit ’n soort visioen?” Betsie trek met haar vinger ’n patroon op die houtwasbak, glad geslyt deur geslagte Ten Booms. “Ek weet nie,” sê sy saggies, “maar as God vir ons slegte
dinge gewys het wat in die toekoms vir ons wag, is dit vir my genoeg dat Hy daarvan weet. Dit is hoekom Hy soms vir ons dinge wys, jy weet… om vir ons te sê dat ook dit in sy hande is.” Vyf dae lank staan Holland sterk teen die invalle. Ons hou die winkel oop, nie omdat enigeen nou in horlosies belangstel nie, maar omdat mense met Pappa wil praat. Party wil hê hy moet bid vir hulle mans of seuns wat naby aan die grens gestasioneer is. Ander, só lyk dit vir my, kom net om hom agter sy werksbank te sien sit soos die afgelope sestig jaar, en om in die tikkende horlosies ’n wêreld van orde en rede te hoor. Ek maak glad nie my werksbank oop nie, maar help vir Betsie wat koffie maak en dit ondertoe dra. Ons bring ook die draagbare radio af en sit dit op die vertoonkas neer. Die radio is Haarlem se oë en ore en polsslag, want ná daardie eerste nag, al hoor ons dikwels vliegtuie oor ons dreun, val die bomme nooit weer so naby aan ons nie. Die eerste oggend kom die opdrag oor die radio dat alle vensters op die grondverdieping van geboue toegeplak moet word. In Barteljorisstraat is alle winkelvensters buite op die sypaadjie. Daar is ’n ongewone gevoel van buurmanskap terwyl raad, rolle kleefband en verhale van die nag se verskrikking van die een deur na die ander sweef. Een winkeleienaar, ’n uitgesproke antiSemiet, sit ’n handjie by om Weil, die pelshandelaar, te help om planke vas te kap waar ’n vensterruit die vorige nag losgeskud is. Die oogkundige langs ons, ’n stil, teruggetrokke man, kom oor en plak die bokant van ons uitstalvenster vir ons toe, want ek en Betsie kan nie daar bykom nie. ’n Paar aande later bring die radio die nuus wat ons gevrees het: Die koningin het die land verlaat. Die nag van die inval het ek nie gehuil nie, maar nou huil ek. Want ons land is verlore. Die volgende oggend kondig hulle oor die radio aan dat Duitse tenks oor die grens rol. Die ganse Haarlem storm uit op straat. Selfs Pappa wie se daaglikse stappie so voorspelbaar is soos die klokkespel van sy eie horlosies, verbreek sy roetine deur om tienuur die oggend, ’n ongehoorde tyd, te gaan stap. Dit is asof ons alles saam wil tegemoetgaan, wat ook al na ons toe kom. Die hele stad verenig. Dis asof alle Hollanders krag uit mekaar se teenwoordigheid wil put. So stap ons drie tussen die stampe en stote van die skare deur, oor die brug en al
met die Spaarne langs, die hele pad tot by ’n wildekersieboom, met bloeisels wat elke lente so ’n spierwit sprokiesbeeld vorm dat ons dit die Bruid van Haarlem noem. ’n Paar verbleikte bloeisels klou nog aan die takke met hulle nuwe groen botsels, maar die meeste van die Bruid se blomme lê op die grond en vorm ’n verwelkte tapyt onder ons. ’n Ent verder in die straat af vlieg ’n venster oop. “Ons het oorgegee!” Die optog in die straat gaan staan onmiddellik. Elkeen vertel aan die een langs hom of haar wat hulle reeds gehoor het. ’n Seun van ongeveer vyftien draai na ons toe. Terwyl die trane oor sy wange stroom, roep hy: “Ek sou geveg het! Ek sou nooit opgegee het nie!” Pappa buk af, tel ’n gekneusde blommetjie van die klipsypaadjie af op en steek dit byna teer in sy knoopsgat. “Dis reg, my seun”, sê hy vir die outjie, “want Holland se stryd het nou maar net begin.”
In die eerste maande van besetting is die lewe nie so ondraaglik nie. Die moeilikste verandering om aan gewoond te raak is die Duitse uniforms wat oral rondom ons is, die Duitse vragmotors en tenks in die strate, en die Duitse taal in die winkels. Soldate besoek dikwels ons winkel, want hulle word goed betaal en horlosies is een van die eerste dinge wat hulle wil koop. Hulle praat met ’n meerderwaardige houding met ons, asof ons dom kinders is. Maar wanneer ek luister hoe hulle hul nuwe horlosies opgewonde met mekaar bespreek, klink hulle soos alle ander jong mans wat bloot met vakansie is. Die meeste van hulle koop ook dameshorlosies vir hul ma’s, vroue en meisies in hul vaderland. Inderdaad het die winkel nog nooit so baie geld gemaak soos in die eerste jaar van die oorlog nie. Met geen nuwe voorraad wat ons kan bereik nie, koop die soldate egter alles wat ons het, selfs die “winkelkinders”, dié horlosies wat al so lank in die winkel lê dat hulle as deel van die meubels beskou word. Ons verkoop tot die groen marmerhorlosie met sy tweeling-Cupido’s van koper wat bokant die kaggel staan. Die aandklokreël veroorsaak aanvanklik ook nie vir ons enige ongerief nie. Almal moet om tienuur die aand in hul huise wees, en teen daardie tyd is ons in elk geval reeds in die huis. Waarteen ons wel beswaar maak, is die identiteitskaart wat aan elke inwoner van die stad uitgereik word. Dié dokument
met jou foto en vingerafdrukke daarop moet jy dadelik wys wanneer iemand jou vra. ’n Soldaat of ’n konstabel – die Haarlemse polisie staan nou onder direkte beheer van die Duitse kommandant – mag ’n stadsbewoner voorkeer en vra om sy of haar kaart te sien. Ons moet dit in ’n soort sakkie om ons nek dra. Ons kry ook rantsoenkaartjies, maar in die eerste jaar verseker die koepons minstens kos en ware wat werklik in die winkels verkrygbaar is. Elke week kondig die koerante aan waarvoor die koepons van die dag ingeruil kan word. Nog iets waarby ons moeilik aanpas, is dat die koerante nie meer nuus bevat nie. Lang, gloeiende verslae oor die sukses van die Duitse leër op die verskillende fronte; die verheerliking van die Duitse leiers; die oordeel oor verraaiers en saboteurs; die oproep om die eenheid van die “Nordiese rasse”, ja, dit is in oorvloed daar. Maar geen nuus wat ons kan vertrou nie. Ons maak dus maar weer op die radio staat. Vroeg tydens die besetting is almal in Haarlem beveel om al hul privaat radiostelle in te gee. Ons het besef ons sou onnodige aandag op ons as gesin vestig as ons nie ’n radio oorhandig nie. Ons besluit toe om die draagbare radio te gee en die grote in een van die menige holtes onder die wenteltrap weg te steek. Albei voorstelle het van Peter gekom. Hy is sestien aan die begin van die besetting en, saam met ander Hollandse tieners, brand die rustelose energie van woede en magteloosheid in hom. Hy het die tafelradio onder ’n kromming in die trap ingebou, net bokant Pappa se kamer, en die ou planke heel bedrewe teruggesit. Toe ek die klein radio na Vroom en Dreesman se afdelingswinkel neem, die plek waar almal hul radio’s moet ingee, kyk die klerk agter die toonbank na my. “Is dit die enigste radio wat julle besit?” “Ja.” Hy lees deur ’n lys voor hom. “Ten Boom, Casper, Ten Boom, Elizabeth by dieselfde adres. Besit een van hulle ’n radio?” Ek weet van my kinderdae af dat die aarde oopgaan en die hemel vuur laat neerreën op leuenaars, maar ek kyk hom vas in die oë. “Nee.”
Eers toe ek by die gebou uitstap, begin ek bewe. Nie omdat ek vir die eerste maal in my lewe doelbewus ’n leuen vertel het nie, maar omdat dit so verskriklik maklik was. Maar ons het ons radio gered. Elke aand haal ek of Betsie die trapplankie uit en buk oor die radio. Ons draai die volume so sag dat die stemme skaars hoorbaar is, en iemand anders speel terselfdertyd baie hard op die klavier in tannie Jans se kamer. Só hoor ons al die nuus uit Engeland. In die begin stem die nuus oor die radio en die nuus van die drukpers grootliks ooreen. Die Duitse offensief seëvier oral. Maand ná maand raai die uitsendings van die Vrye Nederlandse radiostasie ons aan om net te wag, om moed te hou, om te glo in die teenaanval wat tog sekerlik eendag moet kom. Die Duitsers het die bomskade aan die lughawe herstel en gebruik dit nou as ’n basis vir hulle lugaanvalle op Engeland. Nag ná nag lê ons in die bed en luister na die gedreun van enjins op hul pad weswaarts. Af en toe kom Engelse vliegtuie met hul weerwraak. Soms word hulle deur Duitse vegtervliegtuie onderskep, reg bokant Haarlem. Een aand lê ek in my bed en rondrol terwyl vliegtuie dit in die lug uitbaklei. Rooi strepe skiet deur my lappie lug. Uiteindelik hoor ek Betsie in die kombuis en ek hardloop af na haar toe. Sy maak tee en bring dit eetkamer toe, waar ons die vensters met dik, swart papier toegemaak het. Sy haal die heel beste koppies uit. Iewers in die nag is daar ’n ontploffing; die koppies ratel in die kas. ’n Uur lank drink ons ons tee met klein teugies en gesels totdat die geluid van vliegtuie wegsterf en die lug weer stil is. Ek sê vir Betsie nag by die deur van tannie Jans se kamers en loop voel-voel in die donker op na my kamer toe. Die vuurlig het verdwyn. Ek voel waar my bed is. Die kussing. En dan, in die donker, vat my hand ’n harde voorwerp vas. Skerp. Ek voel bloed uit een van my vingers drup. Dit is ’n ruwe en puntige stuk metaal, ongeveer vyf en twintig sentimeter lank. “Betsie!” Ek hardloop vinnig met die trappe af, met die granaatskerf steeds in my hand.
Ons gaan terug eetkamer toe en staar in die lig daarna terwyl Betsie my hand verbind. “Op jou kussing…” sê sy aanhoudend. “Betsie, as ek jou nie in die kombuis gehoor het nie…” Maar Betsie druk haar vinger teen my lippe. “Moet dit nie sê nie, Corrie! In God se wêreld is daar nie ‘as’ nie. En geen plek is veiliger as enige ander plek nie. Sy wil is ons enigste veiligheid. O Corrie, laat ons bid dat ons dit altyd sal onthou!”
Die werklike afgryse van die besetting daal langsaam oor ons neer. In die eerste jaar van die Duitse oorheersing is daar slegs geringe aanvalle op Jode in Holland. ’n Klip deur die venster van ’n Joodse winkel; ’n lelike woord op die muur van ’n sinagoge. Dit is asof hulle ons, en die gesindheid van die land, wil toets. Hoeveel Hollanders sal hulle steun? Tot ons skande is daar baie. Die Nasionale Sosialistiese Bond, die verraaierorganisasie van Holland, word al hoe groter en astranter met elke maand wat die besetting voortduur. Sommige Hollanders sluit by die NSB aan net vir die voordele wat dit inhou: meer kos, meer klerekoepons, die beste betrekkings en die grootste huise. Ander sluit egter uit oortuiging aan. Nazisme is ’n siekte waaraan ook die Hollanders ly, en dié wat ’n anti-Semitiese ingesteldheid het, word eerste deur dié siekte oorrompel. Toe ons op ’n dag gaan stap, sien ek en Pappa hoe die simptome versprei. ’n Kennisgewingbord in ’n winkelvenster: Jode word nie hier bedien nie. By die ingang van ’n openbare park: Geen Jode. Op die deur van die biblioteek. Voor restaurante. Voor teaters en selfs die konsertsaal, waar ons in die steeg gestaan en luister het en daarom die stegie soveel beter as die sitplekke ken. ’n Sinagoge het afgebrand en die brandweerwaens kom loeiend aan, maar net om te keer dat die vlamme nie na die omliggende geboue versprei nie. Een middag toe ek en Pappa ons bekende roete volg, is die sypaadjies helder met geel sterre wat voor op baadjies en jasse vasgewerk is. Mans, vroue en kinders dra die sespuntige ster met die woord “Jood” in die middel geskryf. Ons is verbaas om te sien hoeveel mense by wie ons elke dag verbygeloop het Jode is. Die man wat die World Shipping News in die Grote Markt lees, dra ’n ster op sy netjies gestrykte pak klere. Ook Bulhond, met sy hangwanggesig vol dieper as
ooit plooie, se stem is skerp van spanning terwyl hy ’n bohaai van sy honde maak. Die heel ergste is egter die verdwynings. ’n Horlosie, herstel en gereed, bly maand ná maand aan die haak agter in die winkel hang. ’n Huis in die blok waar Nollie-hulle woon, is skielik geheimsinnig leeg en die gras tussen die roosbome word lank. Op ’n dag maak mnr Kan se winkel ’n entjie boontoe in die straat nie oop nie. Pappa gaan klop aan sy deur toe ons die middag daar verbyloop om uit te vind of iemand siek is, maar daar is geen antwoord nie. Die luike bly toe, die vensters bo is donker en stil, etlike weke lank. ’n NSB-gesin trek later in die boonste vertrek in, maar die winkel bly toe. Ons weet nooit of die mense stil-stil deur die Gestapo weggevoer word en of hulle gaan wegkruip het voordat dit kon gebeur nie. Ongetwyfeld word die Jode ook al hoe meer in die openbaar in hegtenis geneem, sonder enige poging om te verberg wat gebeur. Toe ek en Pappa eendag terugstap huis toe, vind ons ’n dubbele kordon polisiebeamptes en soldate om die Grote Markt. ’n Vragmotor staan voor die vismark. Mans, vroue en kinders, almal met ’n geel ster, klim agterop die vragmotor. Ons kan geen rede sien hoekom dié spesifieke plek op dié spesifieke tyd gekies is nie. “Pappa! Daardie arme mense,” roep ek uit. Die lyn polisiebeamptes maak ’n opening vir die vragmotor en dit beweeg stadig deur. Ons hou dit dop totdat dit om die hoek verdwyn. “Daardie arme mense,” sê Pappa ook. Maar tot my verbasing kyk hy na die soldate wat nou in gelid wegmarsjeer. “Ek kry die arme Duitsers jammer, Corrie. Hulle raak nou aan die appel van God se oog.”
Ek, Pappa en Betsie gesels dikwels oor wat ons sal doen as ons die geleentheid sou kry om van ons Joodse vriende te help. Ons weet Willem vind vanaf die begin van die besetting skuilplekke vir Duitse Jode wat in sy huis bly. Onlangs het hy ook van die jonger Duitse Jode uit die verpleeginrigting na ’n ander plek verskuif. “Nie my oumense nie,” het hy altyd gesê. “Hulle sal tog sekerlik nie aan my oumense raak nie.”
Willem het adresse. Hy weet van plase op die platteland waar daar min besettingstroepe is. Willem is die een om te vra. Op ’n oggend in November 1941, ’n jaar en ’n half ná die inval, stap ek in die motreëntjie uit om die luike oop te maak. ’n Groep van vier Duitse soldate kom in Barteljorisstraat af. Hulle dra oorlogshelms wat tot laag oor hulle ore getrek is en hulle gewere hang aan bande oor hulle skouers. Ek maak my klein in die deur en hou hulle dop. Namate hulle aanstap, kyk hulle na die winkelnommers. By Weil se pelswinkel oorkant die straat, eintlik presies reg oorkant ons, gaan staan hulle. Een van hulle haal sy geweer van sy skouer af en stamp met die kolf teen die deur. Hy trek dit terug om nog ’n hou te gee toe die deur oopgaan. Al vier soldate stormloop by die huis in. Ek hardloop deur ons winkel en op tot in die eetkamer waar Betsie besig is om drie plekke te dek. “Betsie! Betsie! Maak gou! Iets vreeslik is by die Weils aan die gang!” Terug by die voordeur is ons net betyds om te sien hoe mnr Weil agteruit by die winkel uitloop, die loop van ’n geweer in sy maag. Toe die soldaat vir mnr Weil ’n entjie tot op die sypaadjie uitgestoot het, draai hy om, stap terug tot in die winkel en slaan die deur toe. Darem nie ’n arrestasie nie, sug ons van verligting. Binne hoor ons glas breek. Soldate begin arms vol pelse uitdra. ’n Skare versamel by die winkel, ten spyte van die vroeë oggenduur. Mnr Weil bly stokstil staan waar die soldaat hom gelos het. ’n Venster gaan bokant sy kop oop en ’n klompie klere reën op hom neer – nagklere, hemde, onderklere. Stadig, meganies, buk die ou pelsverkoper en tel sy klere op. Ek en Betsie hardloop oor die straat om hom te help. “Jou vrou!” fluister Betsie dringend. “Waar is mev Weil?” Die ou man knip sy oë, maar staar haar net aan. “Jy moet inkom!” sê ek en raap kouse en sakdoeke van die sypaadjie af op. “Kom gou, kom saam met ons!” Ons stoot hom voor ons uit na die Beje toe. Pappa is in die eetkamer en groet mnr Weil sonder om in die minste verbaas te lyk. Sy natuurlike optrede laat die pelsverkoper skynbaar ’n bietjie ontspan. Sy vrou, sê hy, kuier by haar suster in Amsterdam.
“Ons moet by ’n telefoon uitkom en haar waarsku om nie terug te kom nie,” sê Betsie. Soos die meeste privaat telefone is ook ons s’n reeds vroeg tydens die besetting afgesny. Daar is openbare telefone op verskeie plekke in die stad, maar natuurlik gaan alle gesprekke na ’n openbare ontvangsentrum. Wat sal gebeur as ons ’n familie in Amsterdam by die probleme hier in Haarlem betrek? En as mev Weil nie huis toe kom nie, waarheen moet sy dan gaan? Waar moet die Weils gaan bly? Beslis nie by die suster waar hulle maklik opgespoor kan word nie. Ek, Pappa en Betsie kyk oor en weer na mekaar. Byna soos een man sê ons: “Willem.” Weer is dit nie ’n saak wat oor die openbare telefoonstelsel bespreek kan word nie. Iemand moet gaan, en ek is die aangewese persoon. Holland se treine is nou vuil en oorlaai met mense. Die reis wat net ’n uur behoort te duur, neem byna drie uur. Toe ek uiteindelik net ná twaalf by die groot verpleeginrigting aankom, is Willem nie daar nie. Tine en hulle seun, Kik, nou twee en twintig, is wel daar. Ek vertel vir hulle wat in Barteljorisstraat gebeur het en gee ook vir hulle die adres in Amsterdam waar mev Weil is. “Sê vir mnr Weil hy moet net ná donker reg wees,” sê Kik. Maar dit is al byna nege-uur – die uur van die nuwe aandklokreël – voordat Kik aan die deur by die stegie klop. Hy knyp mnr Weil se bondeltjie onder sy arm vas en lei die man daar weg, die nag in… Ek sien Kik eers meer as twee weke later weer, en eers toe kan ek hom vra wat gebeur het. Hy glimlag vir my, daardie breë, stadige glimlag wat ek al liefhet vandat hy ’n seuntjie was. “As tannie Corrie met die ondergrondse beweging wil saamwerk, moet jy leer om geen vrae te vra nie.” Ons hoor nooit weer van die Weils nie, maar Kik se woorde maal deur my gedagtes. “Die ondergrondse beweging… as jy met die ondergrondse beweging wil saamwerk…” Werk Kik saam met dié geheime en onwettige groep? En Willem? Natuurlik weet ons daar is so ’n ondergrondse beweging in Holland – altans, ons vermoed dit sterk. Die meeste gevalle van sabotasie word nie in ons beheerde pers genoem nie, maar gerugte doen gereeld die rondte. ’n Fabriek is opgeblaas.
’n Trein vol politieke gevangenes is tot stilstand gedwing en sewe of sewentien of sewentig het ontsnap. Die gerugte is geneig om al hoe meer skouspelagtig te word elke keer dat dit oorvertel word. Maar altyd vertel hulle van dinge wat ons beskou as verkeerd in die oë van God. Diefstal, leuens, moord. Is dit wat God in tye soos dié verlang? Hoe ver moet ’n Christen gaan wanneer die Bose die mag in die hande het?
Ongeveer ’n maand ná die strooptog op die pelswinkel sien ek en Pappa tydens ons normale wandeling iets so ongewoons dat ons in ons spore vassteek. Op die sypaadjie, soos honderde kere vantevore, kom Bulhond met sy rollende kortbeenstappie aan. Aan die heldergeel ster is ons reeds lankal gewoond, maar dadelik sien ons wat kort. Die honde. Die honde is nie by hom nie! Hy stap verby ons, skynbaar sonder om ons raak te sien. Soos een mens draai ek en Pappa om en stap agter hom aan. Hy verdwyn om ’n paar hoeke terwyl ons al hoe meer verleë raak omdat ons hom so sonder enige werklike verskoning volg. Al het hy en Pappa soveel jare lank aan hul hoede geraak elke keer dat hulle verby mekaar gestap het, het hulle nooit een woord met mekaar gepraat nie. Ons ken nie eens sy naam nie. Uiteindelik gaan staan die man voor ’n winkeltjie wat tweedehandse ware verkoop, haal ’n bos sleutels uit en sluit die deur oop. Dan stap hy in. Ons kyk deur die venster na die oorvol binnekant. Een keer se kyk is genoeg om ons te oortuig in dié winkel is nie die gewone mengelmoes van snuistery en stoele met hol sitplekke nie. Iemand met goeie smaak wat van kosbare dinge hou, het al die meubels gekies. “Ons moet Betsie hierheen bring,” sê ek. ’n Klokkie klingel bokant die deur toe ons instap. Hoe eienaardig om Bulhond sonder sy hoed en binne-in ’n gebou te sien. Hy is besig om ’n geldlaai agter in die winkel oop te sluit. “Mag ek my aan u voorstel, Meneer…” begin Pappa. “Ek is Casper ten Boom en dit is my dogter, Cornelia.” Bulhond skud ons hande en weer merk ek die diep plooie op sy hangwange. “Harry de Vries,” sê hy. “Mnr De Vries, ons het so dikwels u… h’m… u… gehegtheid aan u honde
bewonder. Ons hoop dit gaan goed met hulle?” Die kort, dikkerige mannetjie kyk om die beurt na ons. Stadig vul sy oë met trane. “Goed met hulle?” herhaal hy die vraag. “Ek glo dit gaan goed. Ek hoop dit gaan goed. Hulle is dood.” “Dood!” roep ek en Pappa gelyk uit. “Ek het die noodlottige medisyne met my eie hande in die bak gesit. Ek het hulle aan die slaap gestreel. My babas. My kinders. As julle hulle maar net kon sien eet! Ek het gewag, julle weet, totdat ons genoeg koepons vir die vleis gehad het. Hulle was gewoond om daardie tyd te eet.” Ons staar sprakeloos na hom. “Was dit…” kry ek uiteindelik weer my stem, “oor die rantsoene?” Met ’n beweging van sy hand nooi die man ons na ’n kamer agter die winkel en vra ons om te sit. “Mej Ten Boom, ek is ’n Jood. Wie weet wanneer hulle my hier kom wegvat? My vrou ook. Al is sy nie Joods nie, is sy in gevaar omdat sy met ’n Jood getroud is.” Bulhond lig sy ken so hoog dat sy hangwange styftrek. “Ons gee nie vir onsself om nie. Ons is Christene, ek en Cato. As ons sterf, sien ons vir Jesus en dis al wat saak maak. Maar, het ek vir Cato gesê, wat van die honde? As ons weggeneem word, wie gaan hulle versorg? Wie gaan vir hulle water gee en wie sal met hulle gaan stap? Hulle sal wag en ons sal nie terugkom nie. En hulle sal nie verstaan nie. Nee! Só kon my gees darem tot rus kom.” “My liewe vriend!” Pappa gryp Bulhond se hande in syne vas. “Noudat dié geliefde metgeselle nie meer saam met jou kan stap nie, sal jy nie vir my en my dogter die eer aandoen om saam met ons te stap nie?” Maar Bulhond wil nie instem nie. “Dit sal julle lewe in gevaar stel,” hou hy vol. Nogtans neem hy die uitnodiging aan om by ons te kom kuier. “As dit donker is, as dit donker is,” sê hy. Die volgende week kom mnr De Vries een aand by die deur in die stegie aan en bring sy aangename, skamerige vrou, Cato, saam. Sommer gou is sy en Harry byna elke aand besoekers in tannie Jans se voorste kamer.
Naas sy gesprekke met Pappa is Bulhond se grootste vreugde die lywige boeke oor die Joodse geloof wat nou in tannie Jans se mahoniehoutboekrak bewaar word. Veertig jaar gelede het hy ’n Christen geword sonder om in die minste op te hou om ’n getroue Jood te wees. “’n Afgeronde Jood,” sê hy altyd glimlaggend vir ons. “’n Volgeling van die een volmaakte Jood.” Die boeke behoort aan die rabbi van Haarlem. Meer as ’n jaar gelede het hy hulle na Pappa toe gebring. “Net vir ingeval ek dit nie onbepaald… h’m… kan oppas nie.” Hy het sy arm verskonend gewaai na die optog seuntjies, elkeen steierende onder die gewig van ’n paar yslike boeke. “My stokperdjie. Boekeversameling. Tog, ou vriend, boeke word nie so gou oud soos ek en jy nie. Hulle sal bly praat, selfs wanneer ons al weg is, tot in geslagte wat ons nooit sal sien nie. Ja, dié boeke moet behoue bly.” Die rabbi was een van die eerstes om uit Haarlem te verdwyn.
Hoe dikwels is dit nie ’n onbewustelike voorval wat ’n keerpunt verteenwoordig nie. Namate die arrestasie van Jode op straat toeneem, begin ek om werk by ons Joodse klante te gaan haal en weer daar af te lewer sodat hulle dit nie in die middestad hoef te waag nie. Een aand in die vroeë lente van 1942 is ek in die huis van ’n dokter en sy vrou. Hulle kom uit ’n ou Hollandse familie. Die portrette teen die mure kan in werklikheid ’n handboek van die Hollandse geskiedenis wees. Ek en die Heemstras gesels nog oor alles wat op die oomblik altyd die middelpunt van gesprekke vorm wanneer ’n groep mense saam is – rantsoene en die nuus uit Engeland – toe ’n fyn kinderstemmetjie met die trappe af roep: “Pappa! Pappa het ons nie kom toemaak nie!” Dr Heemstra is dadelik op sy voete. Met ’n verskoning aan my en sy vrou stap hy vinnig boontoe. Binne oomblikke hoor ons hoe daar wegkruipertjie gespeel word en die twee kinders skril lag. Dis al. Niks het verander nie. Mev Heemstra gaan voort om vir my te beskryf hoe sy haar tee-rantsoen langer laat hou deur roosblare by te voeg. Tog het alles verander. Want op daardie oomblik breek die werklikheid deur die
byna dowwe, onwerklike gevoel wat sedert die besetting in my begin groei het. Enige oomblik kan daar ’n klop aan die deur wees. Dié kinders, dié ma en dié pa kan beveel word om agter op ’n vragmotor te klim. Dr Heemstra kom terug sitkamer toe en ons gesels verder, sommer hieroor en daaroor. Maar so tussen die woorde deur vorm ’n gebed in my hart. “Here Jesus, ek bied my aan vir u mense. Op enige manier, enige plek en enige tyd!” En toe gebeur iets buitengewoons. Terwyl ek bid, speel my “wakker” droom weer voor my oë af. Weer sien ek die vier reuse perde by die Grote Markt. Net soos in die nag van die inval, kyk ek na die asiers wat so onwillig agter die perde aan getrek word. Ek, Pappa, Betsie, Willem… besig om Haarlem en alles wat seker en veilig is te verlaat. Op pad waarheen?
6
Die geheime kamer
Dis Sondag 10 Mei 1942, presies twee jaar ná die val van Holland. Die sonnige lug bokant ons en die blomme in die beddings weerspieël geensins die stad se gemoedstoestand nie. Duitse soldate stap doelloos deur die strate. Sommige lyk of hulle nog nie van ’n inspannende Saterdagnag herstel het nie; ander is reeds op die uitkyk vir meisies; ’n paar soek ’n plek van aanbidding. Elke maand lyk dit of die besetting strenger en wreder word, die inperkings al hoe meer. Die mees onlangse pynlike gebeurtenis vir die Hollanders is ’n edik wat dit ’n misdaad maak om ons volkslied, die Wilhelmus, te sing. Ek, Pappa en Betsie is op pad na die Nederduitsch Hervormde Kerk in Velsen, ’n dorpie naby Haarlem. Peter het die pos as orrelis daar gekry, al moes hy meeding met veertig ouer en meer ervare mans. Die orrel in Velsen is een van die bestes in die land, en al voel dit of die trein elke keer dat ons daarheen gaan stadiger loop, gaan ons dikwels daar kerk toe. Peter, onsigbaar op die hoë orrelgalery, is reeds besig om te speel toe ons instap. Ons druk by ’n reeds vol bank in. Dit is die een ding wat die besetting vir Holland gedoen het: Die kerke is weer stampvol. Ná die liedere en die gebed luister ons na die preek, ’n goeie een vandag, dink ek. Ek wens Peter wil beter luister. Hy beskou preke as net interessant vir eerbiedwaardige ouer mense soos ek en sy ma. Ek het dié lente vyftig geword, vir Peter die ouderdom waarop die lewe feitlik verby is. Ek vra hom om te onthou dat die dood vir ons elkeen op enige ouderdom kan kom, veral in dié dae, maar hy antwoord ewe ingenome met homself dat hy ’n te wonderlike musikant is om jonk te sterf. Die slotgebed is verby en almal maak gereed om die kerk te verlaat. Skielik is dit
of ’n stroom elektrisiteit deur die kerkgebou vloei. Almal sit regop en luister aandagtig. Want, sonder aanhef en oorverdowend, speel Peter die Wilhelmus. Pappa, nou reeds twee en tagtig, is die eerste op sy voete. Dan staan almal. Van iewers agter in die kerk begin een stem die woorde sing. Nog een sluit aan, en dan nog een. Toe sing almal saam – die stem van Holland wat die verbode volkslied sing. Ons sing so hard ons kan, ons sing uit volle bors oor ons eenheid, ons hoop, ons liefde vir ons koningin en ons land. Op hierdie herdenkingsdag van ons neerlaag lyk dit byna vir ’n oomblik of ons die oorwinnaars is. Ná die diens wag ons vir Peter by die sydeur van die kerk. Dis lank voordat hy vry is om saam met ons te gaan. Soveel mense wil hom ’n drukkie gee of op die skouer klop. Dit is duidelik dat hy hoogs in sy noppies met homself is. Maar noudat die oomblik verby is, is ek, soos gewoonlik, kwaad vir hom. Die Gestapo sal gewis hiervan hoor. Dalk het hulle al. Hulle oë en ore is immers orals. Ek dink aan Nollie wat by die huis is en die Sondagete vir ons kook. Ek dink aan Peter se broers en susters. En aan Flip. Wat as hy sy pos as hoof van die skool hieroor sou verloor? En waarvoor het Peter soveel gewaag? Nie vir menselewens nie, maar vir ’n gebaar. Vir ’n oomblik se betekenislose uittarting. By Bos- en Hovenstraat is Peter egter weer die held terwyl sy gesinslede ons een vir een weer laat beskryf wat gebeur het. Die enigste mense wat met my saamstem, is die twee Joodse vroue wat by Nollie-hulle woon. Een van hulle is ’n ouerige Oostenrykse vrou wat Willem gestuur het om hier weg te kruip. “Katrien”, soos die gesin haar herdoop het, speel die rol van die Van Woerdens se huishulp, al het Nollie my vertroulik vertel dat sy nog nooit eens haar eie bed opgemaak het nie. Dalk weet sy nie hoe nie, want sy kom uit ’n welgestelde en aristokratiese familie. Die ander vrou is ’n jong Duitse Jodin met blonde hare en blou oë. Sy het foutlose vals identiteitsdokumente van die Hollandse ondergrondse beweging ontvang. Die dokumente is so goed vervals. Annaliese lyk so anders as die Nazi’s se stereotipe van ’n Jood dat sy die huis vrylik in- en uitgaan om inkopies te doen en by die skool te help. Sy gee voor dat sy ’n vriendin van die gesin is en dat haar man in die bomaanval op Rotterdam gesterf het. Katrien en Annaliese verstaan net so min soos ek hoekom Peter moedswillig iets sou doen om die aandag van die Duitsers te trek.
Ek is die hele middag angstig. Elke motor wat ek hoor, maak my gespanne, want net die polisie, die Duitsers en die NSB-amptenare besit nou voertuie. Maar toe ons na die Beje terugkeer, het daar nog niks gebeur nie. Ek wag nog twee dae en besluit dan óf Peter is nie aangegee nie óf die Gestapo het belangriker dinge wat hul aandag verg. Die Woensdagoggend, net toe ek en Pappa ons werksbanke oopsluit, bars Peter se suster, Cocky, by die deur in. “Oupa! Tannie Corrie! Hulle het Peter kom haal! Hulle het hom weggevat!” “Wie? Waarheen?” Maar sy weet nie. Drie dae gaan verby voordat die gesin hoor hy is na die federale tronk in Amsterdam geneem.
Dis vyf voor agt, net ’n paar minute voor die nuwe aandklokreël wat nou ingestel is. Peter is reeds twee weke in die tronk. Ek, Pappa en Betsie sit om die eetkamertafel. Pappa steek horlosies in hulle sakkies en Betsie doen naaldwerk terwyl ons groot, swart Persiese kat tevrede op haar skoot lê. ’n Klop aan die stegie se deur laat my dadelik in die vensterspieël kyk. In die lenteskemer staan ’n vrou. Sy het ’n tassie by haar en – eienaardig vir hierdie tyd van die jaar – ook ’n pelsjas, handskoene en ’n swaar sluier. Ek hardloop af en maak die deur oop. “Mag ek inkom?” vra sy, haar stem skril van vrees. “Natuurlik.” Ek staan opsy. Die vrou kyk oor haar skouer terwyl sy by die voorportaal instap. “My naam is Kleermaker. Ek is Joods.” Ek steek my hand uit om haar sak te neem, maar sy hou dit vas. “Wil u nie boontoe kom nie?” Pappa en Betsie staan op toe ons by die eetkamer instap. “Mev Kleermaker, dit is my pa en suster.”
“Ek wou nou net tee gaan maak,” sê Betsie. “Jy is net betyds om saam te drink.” Pappa trek ’n stoel onder die tafel uit en mev Kleermaker gaan sit. Sy klou steeds aan haar tas vas. Die “tee” bestaan uit stokou blare wat fyngedruk en al soveel keer gebruik is dat dit die water net-net kleur. Maar mev Kleermaker neem die koppie dankbaar. Sy vertel vir ons dat haar man ’n paar maande gelede in hegtenis geneem is en dat haar seun iewers wegkruip. Die vorige dag het die SD – die politieke polisie wat onder die Gestapo werk – haar beveel om die familie se klerewinkel te sluit. Sy is nou te bang om terug te gaan na die vertrek bokant die winkel. Sy het gehoor ons het aan ’n man in ons straat ’n helpende hand uitgesteek… “By hierdie gesin,” sê Pappa, “is God se mense altyd welkom.” “Ons het vier beddens hierbo,” sê Betsie. “Jou grootste probleem sal wees om te kies in watter een jy wil slaap.” Tot my verbasing voeg Betsie vinnig by: “Maar help my eers met die teegoed.” Ek kan skaars my ore glo. Betsie laat nooit iemand toe om haar te help nie. “Ek is net ’n puntenerige oujongnooi,” sê sy altyd. Maar mev Kleermaker spring met patetiese gretigheid op en begin borde en koppies bymekaarmaak.
Net twee aande later speel presies dieselfde toneel weer af. Net voor agtuur op ’n aand in Mei. Weer hoor ons die half-onseker klop aan die sydeur. Dié keer maak ons die deur vir ’n bejaarde paartjie oop. “Kom in!” nooi ek. Die storie is dieselfde: Hulle klou aan hul paar besittinkies vas; hulle het dieselfde bang kyk in hul oë; hulle stap net so voel-voel by die huis in; hulle vertel van bure wat in hegtenis geneem is, en van die vrees dat dit môre hul beurt sal wees. Die aand ná huisgodsdiens kom ons ses se dilemma ter sprake. “Dié plek is te gevaarlik,” sê ek vir ons drie gaste. “Ons is ’n halwe blok weg van die polisie se hoofkwartier. Tog weet ek nie waarheen anders julle kan gaan nie.”
Dis duidelik tyd om weer by Willem te gaan kuier. Die volgende dag durf ek die moeilike reis Hilversum toe aan. “Willem,” sê ek, “ons het drie Jode wat by ons in die Beje bly. Kan jy vir hulle plek op die platteland kry?” Willem druk sy vingers op sy oë en ek merk skielik op hoeveel grys daar in sy baard is. “Dit word al hoe moeiliker,” sê hy. “Elke maand is dit moeiliker. Hulle voel die kosskaarste nou selfs op die plase. Ek het nog plekke, ja, ’n paar. Maar hulle sal niemand sonder ’n rantsoenkaart inneem nie.” “Sonder ’n rantsoenkaart!” roep ek uit. “Maar die Jode kry nie rantsoenkaarte nie!” “Ek weet.” Willem draai om en staar by die venster uit. Vir die eerste keer wonder ek hoe hy en Tine dit regkry om vir die bejaarde mans en vroue by hulle te sorg. “Ek weet,” sê hy weer, “en rantsoenkaarte kan nie vervals word nie. Dit word te dikwels verander en dit is maklik om vals kaarte uit te ken. Identiteitskaarte is ’n ander saak. Ek ken verskeie drukkers wat dit kan druk. Al wat nodig is, is ’n fotograaf.” ’n Fotograaf? Drukkers? Waarvan praat Willem tog? “Willem, as jy dan rantsoenkaartjies nodig het en daar is nie vervalstes nie, wat doen jy?” Willem draai stadig van die venster af terug na my toe. Dit lyk of hy van my en my probleem vergeet het. “Rantsoenkaarte?” Sy hand beweeg, maar wys nie na iets nie. “Jy steel dit.” Ek kyk na die Nederduitsch Hervormde predikant. “Willem, kan jy dan vir my steel? Ek bedoel… kan jy vir my drie gesteelde rantsoenkaartjies in die hande kry?” “Nee, Corrie! Ek word dopgehou! Verstaan jy dan nie? Elke beweging wat ek maak, word dopgehou.” Hy sit sy arm om my skouers. “Selfs al kan ek jou ’n rukkie help,” sê hy dan
vriendeliker, “ is dit beter om jou eie hulpbronne te vind. Hoe minder bande daar met my is, hoe beter. Eintlik, hoe minder bande daar met énigiemand anders is, hoe beter.” Terwyl ek op die oorvol trein huiswaarts ruk en skud, bly Willem se woorde in my gedagtes maal. “Jou eie hulpbronne.” Dit klink so… professioneel. Waar gaan ek ’n bron van gesteelde rantsoenkaartjies kry? Wie in die wye wêreld ken ek tog? ’n Naam flits onverwags deur my kop. Fred Koornstra. Fred het altyd die elektrisiteitsmeter by die Beje kom lees. Die Koornstras het ’n dogter wat gestremd is. Sy kom na die eredienste vir gestremdes wat ek al twintig jaar lank aanbied. Fred het nou ’n nuwe werk, en dit nogal in die Voedselkantoor. Is dit nie waar die rantsoenkaarte uitgereik word nie? Die aand ná ete ry ek oor die steenstrate na die Koornstras se huis toe. Die bande van my getroue ou fiets het uiteindelik die gees gegee. Nou kletter ek, soos honderde ander Hollanders, met ’n fiets sonder bande deur die stad. Elke stamp herinner my knarsend dat ek al vyftig is. Fred, ’n bleskopman met ’n militêre houding, maak die deur vir my oop en staar onbegrypend na my toe ek vir hom sê ek wil oor Sondag se diens met hom praat. Hy nooi my in en maak die deur toe. “Corrie,” sê hy dan, “waaroor het jy regtig met my kom praat?” “Here,” bid ek in my hart, “as dit onveilig is om my vertroue in Fred te plaas, keer hierdie gesprek asseblief voordat dit te laat is.” “Ek moet jou eers vertel dat ons onverwagte kuiergaste in die Beje gekry het. Eers was dit ’n vrou en toe daarna ’n getroude paartjie. Toe ek vanmiddag by die huis kom, was daar nog ’n paar gaste.” Ek bly ’n oomblik stil. “Almal is Jode.” Fred se gesigsuitdrukking verander glad nie. “Ons kan veilige plekke vir hulle kry, maar hulle moet iets gee… rantsoenkaarte.”
Fred se oë is vriendelik. “Nou weet ek hoekom jy hier is.” “Fred, is daar enige manier dat jy ekstra kaarte kan uitdeel? Meer as waarvan jy verslag doen?” “Nee, Corrie. Ek moet op tientalle maniere van al die kaarte rekening gee. Dit word nagegaan en wéér en wéér nagegaan.” Die hoop wat in my begin groei het, verwelk oombliklik. Maar toe frons Fred. “Tensy…” begin hy. “Tensy?” “Tensy daar ’n rooftog is. Die Voedselkantoor in Utrecht is verlede maand beroof, maar die diewe is gevang.” ’n Rukkie bly hy doodstil. “As dit om twaalfuur gebeur wanneer net ek en die verslagklerk daar is… en as hulle ons daar kry… vasgebind en ons monde toegebind…” Hy klap sy vingers. “Ek weet presies wie dit moet doen. Onthou jy die…” “Moenie!” sê ek vinnig, want ek onthou Willem se waarskuwing. “Moenie vir my sê wie nie. Moenie vir my sê hoe nie. Kry net die kaarte as jy kan.” Fred staar ’n rukkie na my. “Hoeveel het jy nodig?” Ek maak my mond oop om vyf te sê, maar die getal wat skielik, en tot my verbasing, by my mond uitkom, is “honderd”.
Toe Fred presies ’n week later die deur vir my oopmaak, snak ek na asem. Hy lyk verskriklik. Die vel rondom albei sy oë is groenpers en sy onderlip is stukkend en geswel. “My vriend het sy rol baie realisties vertolk,” is al wat hy sê. Maar die kaarte het hy. Op die tafel in ’n bruin koevert lê honderd paspoorte na veiligheid. Fred het reeds die “voortsettingskoepons” afgeskeur. Die laaste
koepon word die laaste dag van elke maand by die Voedselkantoor ingehandig in ruil vir die volgende maand se kaart. Met dié koepons sou Fred elke maand “wettig” honderd kaarte aan ons kon uitreik. Ons stem saam dat dit te gewaagd sal wees as ek elke maand na sy huis toe gaan. Sou dit nie beter wees as hy liewer na die Beje toe kom, geklee in sy ou meterleser-uniform nie? Die meter in die Beje is in die agterste portaal by die voet van die trap. Toe ek die middag by die huis kom, werk ek die hout van die onderste trappie oop, soos Peter dit hoër op gedoen het om die radio weg te steek. Ek vind ’n hol ruimte binne-in die trap. Peter sou trots gewees het op my, dink ek terwyl ek werk. Skielik spoel ’n golf van eensaamheid oor my toe ek aan dié dapper en byna verwaande jong man dink. Selfs hy sou nou moes erken dat ’n horlosiemaker se oog en hand iets werd is, dink ek terwyl ek terugstaan om die voltooide skuilplek te bewonder. Die skarnier is diep in die hout verberg, en die stokou plank aan die voorkant tussen die twee trappies onversteur. Ek is byna belaglik erg in my skik met wat ek reggekry het. Ons beproef die stelsel die eerste keer op 1 Julie. Fred sou deur die winkel inkom, soos altyd, met die kaarte onder sy hemp. Ons het afgespreek dat hy om halfses daar sou wees, wanneer Betsie reeds al die besoekers uit die agterste portaal kon kry. Ek skrik my yskoud toe die winkeldeur om vyf en twintig oor vyf oopgaan en ’n konstabel daar instap. Die konstabel is ’n lang man met baie kort oranjerooi hare. Ek ken net sy naam, Rolf van Vliet. Verder weet ek niks van hom nie. Hy was by die winkel se honderdste verjaarsdagpartytjie, maar die helfte van Haarlem se polisie was daar. Hy was beslis nie een van Betsie se “gewone” koffiebesoekers op ’n ysige winteroggend nie. Rolf bring ’n horlosie in wat skoongemaak moet word, en dit lyk vir my of hy in ’n geselserige bui is. My keel is kurk-kurkdroog, maar Pappa gesels ewe lekker terwyl hy Rolf se horlosie oopmaak en ondersoek. Wat moet ons doen? Daar is geen manier om Fred Koornstra te waarsku nie. Stiptelik om halfses gaan die deur oop en Fred stap in, geklee in sy blou werksklere. Vir my lyk dit of sy bors sommer ’n paar honderd sentimeter te groot lyk.
Met ongelooflike selfversekerdheid knik Fred vir Pappa, vir die konstabel en dan vir my. “Goeienaand.” Beleefd, maar met ’n tikkie verveeldheid in sy stem. Hy loop ewe ongeërg deur die agterdeur van die winkel en maak dit agter hom toe. My ore is gespits om te hoor of hy die geheime deksel oplig. Ja, ek hoor dit. Rolf moes dit beslis ook gehoor het. Die deur agter ons gaan weer oop. Só goed beheer Fred homself dat hy nie eens by die deur na die stegie uitvlug nie, maar weer deur die winkel stap. “Goeienaand,” groet hy weer. “Naand.” Hy stap uit op straat en verdwyn. Dié keer is ons nie betrap nie, maar ons sal beslis ’n waarskuwingstelsel moet uitwerk, besef ek.
In die weke ná mev Kleermaker se onverwagte besoek, gebeur daar baie dinge in die Beje. Gewapen met rantsoenkaartjies, vind mev Kleermaker, die bejaarde egpaar, die mense wat daarna by ons aankom én die volgende groep veiliger blyplekke. Die mense wat so gejag word, kom egter steeds aan, en die behoeftes is dikwels meer ingewikkeld as rantsoenkaarte en adresse. As ’n Joodse vrou swanger raak, waarheen kan sy gaan vir die baba se geboorte? As ’n Jood wat wegkruip, sterf, hoe en waar word hy of sy begrawe? “Ontwikkel jou eie hulpbronne,” het Willem gesê. Vanaf die dag dat Fred Koornstra se naam so vinnig by my opgekom het, groei daar ’n geheimsinnige besef in my. Die helfte van Haarlem is ons vriende! Ons ken verpleegsters in die kraaminrigting. Ons ken klerke by die Dokumentekantoor. Ons ken iemand in elke onderneming en by elke diens in die stad. Wat ons natuurlik nie ken nie, is elkeen se politieke ingesteldheid. Maar – en ek voel hoe my hart snaaks bokspring – God ken dit. My taak is eenvoudig om sy leiding te volg, een stappie op ’n slag, en om elke besluit in gebed aan Hom op te dra. Ek weet ek is nie slim of subtiel of gesofistikeerd nie; as die Beje ’n bymekaarkomplek word sodat ons mense kan help en in hul behoeftes kan voorsien, gebeur dit deur ’n plan veel groter as myne.
’n Paar aande ná Fred se eerste “meterlesing”-besoek, lui die klokkie by die stegie lank ná die aandklokreël. Ek stap vinnig ondertoe met die verwagting dat dit weer ’n treurige en hakkelende vlugteling sal wees. Ek en Betsie het daardie aand reeds vir vier nuwe gaste, ’n Joodse vrou en haar drie kindertjies, beddens opgemaak. Tot my verbasing staan Kik daar, vasgedruk teen die muur van die donker stegie. “Kry jou fiets,” beveel hy op sy gewone jeugdige en kortaf manier, “en trek ’n trui aan. Daar is mense wat ek wil hê jy moet ontmoet.” “Nou? Ná die aandklokreël?” Maar ek weet dit is nutteloos om vrae te vra. Kik se fiets is ook sonder bande, die wielvellings met lap toegedraai. Hy draai ook lappe om my fiets se vellings sodat ek nie so ’n lawaai sal veroorsaak nie. Sommer gou trap ons deur die donker strate van Haarlem teen ’n spoed wat my selfs in die daglig bang sou gemaak het. “Sit jou hand op my skouer,” fluister Kik. “Ek ken die pad.” Ons kruis donker systraatjies, ry oor boogbruggies en gaan om onsigbare hoeke. Uiteindelik steek ons ’n breë kanaal oor en ek weet ons het die deftige voorstad, Aerdenhout, bereik. Ons draai in by ’n oprit waaroor donker boomskaduwees lê. Tot my verbasing tel Kik my fiets op en dra albei fietse met die voorste trappie op. ’n Diensmeisie met ’n gestyfde wit voorskoot en geplooide mus maak die deur vir ons oop. Die ingangsportaal staan propvol fietse. Dan sien ek hom. Een oog glimlag vir my en die ander een vir die deur. Sy reuse maag beur voor hom uit. Picwick! Hy stap voor my en Kik uit sitkamer toe. ’n Hele groep mense, wat almal oneindig vernaam lyk, sit in groepies en koffie drink en gesels. Maar op daardie eerste oomblik is al my aandag op die onuitspreeklik geurige aroma in die kamer gerig. Sowaar! Is dit moontlik? Drink hulle egte koffie? Pickwick skink vir my ’n koppie uit die silwer kan op die buffet. Dit ís koffie. Egte koffie. Ná twee jaar drink ek weer ryk, swart, prikkelende Hollandse koffie. Hy skink ook vir hom ’n koppie en gooi sy gewone vyf klonte suiker in, asof daar geensins rantsoene ingestel is nie. ’n Tweede diensmeisie neem ’n
skinkbord vol koek rond. Kouend en slukkend stap ek agter Pickwick in die vertrek rond en skud hande met die mense aan wie hy my voorstel. Dit is die eienaardigste ontmoetings, want geen name word genoem nie, net af en toe ’n adres en die woorde: “Vra vir mev Smit.” Toe ek my vierde Smit ontmoet, verduidelik Kik met ’n breë glimlag: “Dis die enigste van in die ondergrondse beweging.” Dan is dít nou regtig die ondergrondse beweging? Maar… waar kom al dié mense vandaan? Ek het nie een van hulle al ooit vantevore gesien nie. ’n Oomblik later gaan ’n rilling langs my ruggraat af toe ek besef ek is by die nasionale ondergrondse groep. Hulle hooftaak, leer ek uit stukkies gesprekke hier en daar, is om te skakel met Engeland en die Vrye Nederlandse Magte wat elders op die vasteland veg. Hulle hou ook die ondergrondse roete in stand waardeur Geallieerde vliegtuigbemanning wat afgeskiet word die Noordseekus veilig kan bereik. Hulle is dadelik simpatiek teenoor my pogings om die Jode van Haarlem te help. Ek bloos tot in my hare toe Pickwick my beskryf as “die hoof van ’n operasie hier in die stad”. ’n Wegsteekplek onder die trap en ’n paar lukrake vriendskappe is immers nog glad nie ’n “operasie” nie. Vir my lyk almal in die vertrek duidelik bevoeg, gedissiplineer en professioneel. Hulle groet my egter beleef en ernstig terwyl hulle my hand skud en my gedemp verseker dat hulle my sal help. Vervalste identiteitsdokumente. Die gebruik van ’n motor met amptelike nommerplate. Vervalste handtekeninge. In een van die verste hoeke van die vertrek stel Pickwick my voor aan ’n tingerige man met ’n yl bokbaardjie. “Ons gasheer deel my mee,” sê die man vreeslik formeel, “dat u hoofkwartier ’n geheime kamer kortkom. Om daarsonder te wees hou vir almal gevaar in, vir dié vir wie u help én vir u en die mense met wie u saamwerk. Met u toestemming sal ek met graagte in die komende week ’n besoek by u aflê…” Eers jare later sou ek uitvind dat hy een van die beroemdste argitekte in Europa was. Maar vanaand leer ken ek hom as mnr Smit. Net voordat ek en Kik ons spoedrit terug na die Beje aanpak, haak Pickwick by my in. “My liewe Corrie, ek het goeie nuus. Ek verneem dat Peter op die punt
staan om vrygelaat te word.” Inderdaad word hy dan ook drie dae later vrygelaat, skraler en bleker, maar nie in die minste afgeskrik deur die twee maande in ’n betonsel nie. Nollie, Tine en Betsie gebruik ’n maand se suikerrantsoen om ’n koek te bak om hom by die huis te verwelkom.
Een oggend kort hierna is ons eerste klant in die winkel ’n man met ’n yl baard. Sy naam is Smit. Pappa haal sy vergrootglas voor sy oog weg. As daar iets is waarvan hy meer hou as om ’n nuwe vriend te maak, is dit om ’n band met ’n ou vriend te herontdek. “Smit!” sê hy bly. “Ek ken ’n hele paar Smitte in Amsterdam. Is jy miskien familie van die Smitte wat…” “Pappa,” val ek hom in die rede, “dit is die mnr Smit van wie ek Pappa vertel het. Hy het gekom om… h’m… die huis te inspekteer.” “’n Bouinspekteur? Dan moet u die Smit wees wie se kantoor in Grote Houtstraat is. Ek verwonder my dat ek nie…” “Pappa!” pleit ek sag maar dringend, “hy is nie ’n bouinspekteur nie en sy naam is nie Smit nie.” “Nie Smit nie?” Ek en mnr Smit probeer saam vir Pappa verduidelik, maar hy kan eenvoudig nie verstaan hoe ’n man ’n naam kan hê wat nie sy eie is nie. Toe ek mnr Smit na die agterste portaal neem, hoor ons hom nog vir homself sê: “Ek het eenmaal ’n Smit in Koningstraat geken…” Mnr Smit ondersoek die wegsteekplek van die rantsoenkaartjies onder die onderste trap en keur dit goed. Hy sê ons waarskuwingstelsel is ook in orde. Ek gebruik ’n houtdriehoek waarop “Alpina-horlosies” geskryf staan. Wanneer ek dit in die eetkamer se venster neersit, is dit veilig om by ons in te kom. Toe ek vir hom ’n opening agter die kas in die hoek wys, skud hy egter sy kop. Lank gelede, toe die huis herontwerp is, het daar ’n soort kruipplekkie in die
hoek oop gebly. Dit is waar ons sedert die begin van die besetting ons juweliersware, silwermuntstukke en ander waardevolle besittings bêre. Nie net het die rabbi vir ons sy hele biblioteek gebring nie, maar ook ander Joodse gesinne het van hulle waardevolle besittings na die Beje gebring sodat ons dit veilig kan bewaar. Die ruimte is groot genoeg, het ons geglo, vir iemand om daar weg te kruip as dit sou nodig wees, maar mnr Smit kyk nie eens twee keer daarna nie. “Dis die eerste plek waar hulle sal kyk, maar los dit net soos dit nou is. Dis maar net silwer. Ons wil mense red, nie dinge nie.” Hy begin met die nou kurktrekkertrap op stap en hoe verder hy klim, hoe opgewonder raak hy. Met ’n breë glimlag gaan staan hy en kyk na die trapportale wat so eienaardig geplaas is. Hy klop teen die krom mure en lag sommer hardop toe hy sien hoe die vloervlakke van die twee huise op ’n ongelyke hoogte aaneenloop. “Hoe ongelooflik!” sê hy en sy stem verklap sy verbasing. “Wat ’n onwaarskynlike, ongelooflike, onvoorspelbare onmoontlikheid! Mej Ten Boom, as al die huise soos hierdie een gebou was, sou u nou ’n minder bekommerde man voor u gesien het.” Uiteindelik, heel bo-op die trap, stap hy by my kamer in. “Ons het hom!” roep hy dan skielik bly uit. “Die skuilplek moet so hoog moontlik wees,” verduidelik hy gretig. “Dit gee vir julle die beste geleentheid om dit te gebruik terwyl die soektog nog onder in die huis aan die gang is.” Hy leun by die venster uit, rek sy dun nekkie sodat die bokbaardjie heen en weer draai. “Maar dis… dis my slaapkamer.” Mnr Smit hoor my nie eens nie. Hy meet reeds die vertrek op. Hy skuif die swaar, wankelrige ou klerekas verrassend maklik van die muur af weg en sleep dan my bed tot in die middel van die kamer. “Dís waar die vals muur sal wees.” Opgewonde pluk hy ’n potlood uit en trek ’n streep oor die vloer, ongeveer vyf en sewentig sentimeter vanaf die agterste muur. Hy staan op en kyk peinsend daarna. “Ek sal nie kan waag om groter te gaan nie,” sê hy. “Maar ’n enkelbedmatras sal
darem hier inpas. O ja, maklik.” Ek probeer weer beswaar aanteken, maar ek bestaan nie eens meer vir mnr Smit nie. In die volgende paar dae loop hy en sy werkers aanhoudend by die huis in en uit. Hulle klop nooit nie. Met elke besoek dra elke man iets in. Gereedskap in ’n opgevoude koerant. ’n Paar bakstene in ’n aktetas. “Hout!” roep hy uit toe ek dit waag om te vra of ’n houtmuur nie makliker sal wees om te bou nie. “Hout klink hol. Jy hoor dit dadelik. Nee, nee. Bakstene is al wat vir ’n vals muur werk.” Toe die muur staan, kom die pleisteraar, daarna die skrynwerker en heel laaste die verwer. Ses dae nadat hy begin het, roep mnr Smit vir my, Pappa en Betsie om te kom kyk. Ons staan in die deur en vergaap ons. Die reuk van vars verf is oral, maar werklikwaar, daar is níks in dié kamer wat onlangs geverf is nie! Al vier mure het dieselfde streperige en vuil voorkoms wat al die ou mure in die stad kry as gevolg van Haarlem se steenkoolvure. Die stokou lyswerk loop al met die plafon om, hier en daar versplinter en geskilfer, duidelik ongesteur vir honderd en vyftig jaar. Ou watervlekke lê in ongelyke strepe oor die agterste muur, ’n muur wat selfs ek, wat al ’n halfeeu in hierdie kamer leef, skaars kan glo nie die oorspronklike muur is nie, maar ’n kosbare vyf en sewentig sentimeter van die werklike muur van die huis af. Ingeboude boekrakke loop al met die vals muur langs, ou, sakkende rakke waarvan die verweerde hout dieselfde watervlekke as die muur agter hulle dra. Onder in die verste linker hoek, onder die onderste rak, is daar ’n skuifpaneel van byna ’n meter by ’n meter wat toegang tot die geheime kamer verleen. Mnr Smit buk en skuif die paneel geluidloos op. Op ons hande en knieë kruip ek en Betsie tot in die nou kamertjie wat agter die paneel verskuil is. Toe ons eers in is, kan ons opstaan, sit of selfs een op ’n slag op die enkelbedmatras gaan lê. ’n Versteekte luggat, behendig in die agterste muur aangebring, laat die lug toe om van buite af in te kom. “Hou ’n waterbeker hier,” sê mnr Smit wat agter ons inkruip. “Sit een keer per week ander water daarin. Harde beskuit en vitaminepille hou onbepaald. Wanneer daar iemand in julle huis is wie se teenwoordigheid nieamptelik is, moet al die persoon se besittings behalwe die klere wat hy of sy dra, hier gebêre
word.” Ons kruip weer in ’n ry op ons knieë uit tot in my kamer. “Trek nou weer in u kamer in,” sê hy vir my. “Alles gaan aan soos voorheen.” Met sy vuis slaan hy teen die muur bokant die boekrakke. “Die Gestapo kan ’n jaar soek,” sê hy, “maar dié een sal hulle nooit kry nie.”
7
Eusie
Peter is by die huis, en tog is hy nie veilig nie. Soos geen gesonde jongman meer veilig is nie. In Duitsland is die ammunisiefabrieke wanhopig op soek na werkers. Sonder waarskuwing omsingel die soldate sommer skielik ’n blok geboue en storm dan deur om elke man tussen sestien en dertig in ’n trop daar uit te jaag, op vragmotors te laai en weg te voer. Dié metode van blitsvinnige inval-en-gryp word “razzia” genoem, en elke gesin met jong mans leef in ’n ewige vrees daarvoor. Toe die razzias begin, het Flip en Nollie hulle kombuis herrangskik om vir hulle ’n skuilplek in ’n noodgeval te gee. Daar is ’n klein aartappelkelder onder die kombuisvloer. Hulle maak toe die valdeur wat daarheen lei groter, gooi ’n groot mat bo-oor en skuif die kombuistafel só dat dit presies bo-op die valdeur staan. Sedert mnr Smit se werk by die Beje besef ek dat daardie kelder onder die kombuisvloer ’n totaal onvoldoende wegkruipplek is. Eerstens is dit te ver onder in die huis. Mnr Smit sou waarskynlik ook sê: “Dis die eerste plek waar hulle sal soek.” Tog is dit nie bedoel as ’n wegkruipplek tydens ’n deeglike soektog deur opgeleide soldate nie, maar eerder vir wanneer daar ’n vinnige en onverwagte soektog is. Waarskynlik sal dit dan voldoende wees. Dis Flip se verjaarsdag toe die razzia kom na hulle straat in die stil woonbuurt met sy eenderse skakelhuise. Ek, Pappa en Betsie het vroeg daar aangekom met ’n kwart kilogram egte Engelse tee van Pickwick af. Nollie, Annaliese en die twee ouer meisies is nog nie terug toe ons daar aankom nie. Een van die afdelingswinkels het aangekondig dat hulle ’n besending manskoene ontvang het, en Nollie was vasbeslote om vir Flip ’n paar te kry, “al
moet ek die heeldag toustaan”. Ons sit en gesels in die kombuis met Cocky en Katrien toe Peter en sy broer, Bob, daar ingevlieg kom, hulle gesigte spierwit. “Soldate! Gou! Hulle is net twee deure weg en kom dié kant toe!” Hulle pluk die tafel weg, ruk die mat opsy en maak blitsvinnig die valdeur oop. Bob sak eerste af en Peter val tuimelend op hom neer. Ons laat sak die deur, sleep die vloermat bo-oor en lig die tafel terug tot op sy plek. Met bewende hande gooi ek, Betsie en Cocky ’n lang tafeldoek oor die tafel en begin vyf plekke dek vir tee. Die volgende oomblik hoor ons die voordeur in die portaal oopbars, en hier by ons laat val Cocky ’n teekoppie. Twee Duitsers in uniform hardloop by die kombuis in, geweerlope reguit voor hulle gerig. “Bly waar julle is! Moenie beweeg nie!” Ons hoor swaar stewels met die trap op storm. Die soldate kyk vol afkeer na die kamer vol vroue en een ou man. As hulle ’n bietjie beter na Katrien sou kyk, sou sy haarself sekerlik verraai. Haar gesig is die ene vrees. Maar hulle gedagtes is op ander dinge gerig. “Waar’s die mans?” vra die kortste een van die twee Duitsers in lomp Hollands vir Cocky. “Dit is my tannies,” sê sy en wys na my en Betsie, “en dit is my oupa. My pa is by sy skool en my ma doen inkopies…” “Ek het jou nie oor jou hele familie uitgevra nie!” bars die man in Duits uit en vra dan weer in Hollands: “Waar is jou broers?” Cocky kyk hom ’n sekonde lank aan en laat toe haar oë sak. My hart hou op met klop. Ek weet hoe Nollie haar kinders grootgemaak het, maar juis nou, van alle tye, is ’n leuen vir seker toelaatbaar. “Het jy broers?” vra die offisier weer. “Ja,” sê Cocky sag, “ek het drie broers.”
“Hoe oud is hulle?” “Een en twintig, negentien en agttien.” Bokant ons hoor ons die geluid van deure wat oop- en toegaan en die geskraap van meubels wat van mure af weggesleep word. “Waar is hulle nou?” wil die soldaat bars weet. Cocky buk en begin die koppie se skerwe optel. Die man pluk haar regop. “Waar is jou broers?” “Die oudste een is by die Kweekskool. Hy kom nie gewoonlik saans huis toe nie, want…” “En die ander twee?” Cocky se asemhaling bly wonderbaarlik gelykmatig. “Hulle is onder die tafel.” Terwyl hy met sy geweer vir ons almal beduie om van die tafel af weg te staan, gryp die soldaat die een hoek van die tafeldoek vas. Hy knik en die lang soldaat buk met sy geweer oorgehaal. Toe pluk hy die tafeldoek op. Uiteindelik ontplof die ingehoue spanning. Cocky bars in ’n histeriese lagbui uit. Die soldate draai blitsvinnig om. Lag die meisie vir hulle? “Moenie gekke van ons probeer maak nie!” snou die kort soldaat haar toe. Woedend stap hy by die vertrek uit, en ’n minuut of wat later is die hele afdeling op ’n streep by die huis uit, ongelukkig nie voordat die stil soldaat ons kosbare pakkie tee raaksien en dit in sy sak steek nie. Dié aand hou ons ’n vreemde partytjie wat wissel van opregte dankbaarheid tot die naaste aan ’n bitter argument wat ons as hegte familie ooit sou kom. Nollie kies Cocky se kant en sê sy sou presies dieselfde gedoen het. “God vereer ons met volmaakte beskerming wanneer ons die waarheid praat.” Peter en Bob, wat onder die valdeur was, is nie heeltemal so seker daarvan nie. Ek net so min. Ek het nog nooit Nollie se moed gehad nie, ook nie haar geloof
nie. Maar ek kan wel sien as iets onlogies is. “Dit maak net nie sin om die waarheid te praat en ’n leuen te leef nie. Wat van Annaliese se vals dokumente en Katrien se diensmeisieuniform?” “Here, plaas ’n wag voor my mond,” haal Nollie aan. “Bewaar die deur van my lippe. Psalm 141,” sluit sy triomfantelik af. “Goed, en wat van die radio? Ek moes met my lippe lieg om dit te kon behou!” “En nogtans is alles wat oor jou lippe gekom het in liefde gesê, daarvan is ek seker.” Pappa se vriendelike stem berispe my en my gesig is bloedrooi. Liefde. Hoe wys ’n mens dit? Hoe kan God self waarheid en liefde op presies dieselfde tyd in ’n wêreld soos dié betoon? Deur te sterf. Die antwoord staan vir my skerper en skriller uit as nog ooit voor hierdie aand: die beeld van ’n kruis op die geskiedenis van die wêreld afgeëts.
Dit word al hoe moeiliker om veilige hawens op die platteland te vind vir die stroom Jode wat vroeg in 1943 deur ons ondergrondse beweging gaan. Selfs met die rantsoenkaartjies en vervalste dokumente is daar nie genoeg plek vir almal nie. Vroeër of later sal ons die mense in die stad moet begin wegsteek. Dit weet ons sonder twyfel. Hoe hartseer dat die heel eerste een die dierbaarste van hulle almal sou wees. In die middel van ’n besige oggend in die winkel glip Betsie by die deur van die werkswinkel in. “Harry en Cato is hier,” sê sy. Ons is verbaas. Harry kom nooit in die dag na die Beje toe nie, want hy is te bang sy geel ster sal die lewe vir ons moeilik maak. Ek en Pappa stap haastig agter Betsie met die trap op. Harry de Vries vertel die reeds oorbekende verhaal. Die besoek van ’n NSB-lid die vorige aand. Die aankondiging dat die winkel gekonfiskeer word. Wie gee om dat Harry ’n Christen is? Enige Jood kan hom bekeer om uit die moeilikheid te kom, het die verraaier gesê. En vanoggend verskyn ’n Duitser in uniform om dit amptelik te maak: Die winkel is gesluit “in belang van nasionale veiligheid”.
“Maar, as ek ’n gevaar vir die veiligheid is,” sê die arme Harry, “sal hulle sekerlik nie net my winkel vat nie.” Beslis nie. Maar juis nou is daar geen veilige plekke buite die stad beskikbaar nie. Die enigste ondergrondse adres wat ons op die oomblik het, is dié van ’n mev De Boer, skaars vier blokke van die Beje af. Daardie middag klop ek aan mev De Boer se deur. ’n Kort, ronde vrou met ’n blou katoenrok en pantoffels maak die deur vir my oop. Ons voorsien mev De Boer reeds van rantsoenkaartjies en ons het onlangs vir haar ’n noodoperasie gereël toe sy blindedermontsteking gehad het. Sy wys vir my die woonkwartiere in haar solderkamer. Agttien Jode woon daar, die meeste van hulle in hulle vroeë twintigerjare. “Hulle is al te lank ingehok,” sê sy. “Hulle sing en dans en maak ’n groot geraas.” “As jy dink nog twee mense sal te veel…” “Nee, nee… Hoe kan ek hulle laat omdraai? Bring hulle vannag. Ons sal regkom.” Só begin Harry en Cato hulle lewe by mev De Boer in die solderkamer. Elke dag neem Betsie vir hulle tuisgebakte brood, ’n bietjie tee en ’n skyfie wors. Maar Betsie se grootste bekommernis is nie oor Harry en Cato se gemoed nie; dis oor hulle lewe. “Hulle is in gevaar, julle weet,” sê sy vir my en Pappa. “Dis waar dat die spul jongmense op breekpunt is. Vanmiddag het hulle so ’n lawaai opgeskop dat ek hulle tot onder in die straat kon hoor.”
Daar is ook ander bekommernisse in dié bytende grys winter in ons hart. Al is die sneeu min, kom die koue vroeg en bly laat. Vuurmaakgoed is skaars. Hier en daar in die parke en langs die kanale begin bome verdwyn omdat mense dit afkap om stowe en kaggels aan die gang te hou. Die klam, koue kamers is die ergste vir dié wat baie jonk en baie oud is. Een oggend daag Christoffels nie vir godsdiens op nie. Hy kom ook nie later werkswinkel toe nie. Die vrou by wie hy woon, vind hom later dood in sy bed.
Die water in die wasbak is kliphard gevries. Ons begrawe die dierbare ou horlosiemaker in die pragtige pak en onderbaadjie wat hy na die winkel se honderdste verjaarsdagpartytjie gedra het, ses jaar en nog ’n leeftyd gelede. Die lente kom langsaam. Ons vier my een en vyftigste verjaarsdag met ’n klein partytjie in die De Vriese se huis. ’n Week later, op 22 April, kom Cato alleen by die Beje aan. Toe sy binne is, bars sy in trane uit. “Daardie dwase jongmense het stapelgek geword. Verlede nag het agt van hulle die huis verlaat. Natuurlik is hulle voorgekeer en in hegtenis geneem. Hulle het nie eens die moeite gedoen om hulle baarde af te skeer nie. Die Gestapo het sonder moeite inligting uit hulle gekry.” Die strooptog op die huis het om vieruur die oggend plaasgevind. Hulle het Cato losgelaat toe hulle ontdek sy is nie ’n Jood nie. “Maar al die ander – Harry, mev De Boer… wat gaan van hulle word?” Die volgende drie dae is Cato van vroeg die oggend tot laat die aand, totdat die aandklokreël in werking kom, by Haarlem se polisiestasie. Sy verpes Hollanders en Duitsers ewe veel om haar man te kan sien. Wanneer hulle haar wegstuur, stap sy eenvoudig oor die straat en gaan sit en wag doodstil op die sypaadjie. Die Vrydag net voordat ons vir die middag sluit en die winkel vol mense is, stoot ’n konstabel die straatdeur oop. Hy huiwer effens, maar stap dan deur na die agterste kamer. Dis Rolf van Vliet, die konstabel wat hier was toe ons rantsoenkaartjies die eerste keer afgelewer is. Hy haal sy pet af en ek merk opnuut die opvallende oranjerooi hare. “Die horlosie hou steeds nie tyd nie,” sê Rolf. Hy haal sy polshorlosie af, sit dit op my werksbank neer en leun dan vorentoe. Sê hy iets? Ek kan skaars die woorde hoor. “Harry de Vries word môreoggend Amsterdam toe geneem. As jy hom wil sien, kom presies drie-uur vanmiddag.” En dan: “Sien jy? Die sekondewyser sukkel nog bo-aan die wyserplaat.” Om drie-uur daardie middag stap ek en Cato by die hoë dubbeldeure van die polisiestasie in. Die konstabel aan diens is niemand anders nie as Rolf. “Kom saam met my,” sê hy in ’n growwe stem. Hy lei ons in ’n gang met ’n hoë plafon langs. Voor ’n geslote metaalhek gaan hy staan. “Wag hier,” sê Rolf.
Iemand aan die ander kant maak die hek oop en Rolf stap deur. Hy bly ’n paar minute weg. Dan gaan die deur weer oop en voor ons staan Harry. Rolf staan effens weg toe Harry vir Cato in sy arms neem. “Julle het net ’n paar sekondes,” sê Rolf. Hulle laat mekaar los en kyk in mekaar se oë. “Ek is jammer,” sê Rolf, “maar hy moet nou teruggaan.” Harry soen sy vrou. Toe vat hy my hand en skud dit plegtig. Ons oë raak vol trane. Vir die eerste keer praat Harry. “Ek sal die plek gebruik, waarheen hulle ons ook al neem,” sê hy. “Dit sal my getuiebank vir Jesus wees.” Rolf vat Harry aan die elmboog. “Ons sal elke dag vir jou bid, Harry!” roep ek toe die hek toeswaai. Ek durf dit nie hardop sê nie, maar ek voel instinktief aan dat dit die laaste keer is dat ek ooit ons vriend Bulhond sal sien.
Daardie aand hou ons ’n vergadering oor Rolf. Ek en Betsie en die tientalle jongmense – seuns en dogters – wat as boodskappers vir ons werk optree. As Rolf sy veiligheid in gevaar gestel het om vir ons te kom sê Harry gaan weggeneem word, moet hy miskien saam met ons werk. “Here Jesus,” bid ek hardop, “dit kan vir ons almal gevaarlik wees, ook vir Rolf.” Maar saam met die woorde vloei die gerusstelling oor dié man deur my. Hoe lank, wonder ek, sal ons deur die gawe van kennis gelei word? Ek stel een van ons jongste seuns aan om vir Rolf van sy werk af huis toe te volg en uit te vind waar hy woon. Die ander seuns, dié wat vir die fabrieke “gewerf” kan word, stuur ons nou net uit wanneer dit donker is, en dan is hulle meestal soos meisies aangetrek. Die volgende week gaan kuier ek vir Rolf by sy huis. “Jy het geen idee hoeveel dit vir Harry beteken het nie,” sê ek toe ek veilig binne is. “Hoe kan ons jou vergoed vir wat jy gedoen het?”
Rolf trek sy vingers deur sy rooi hare. “Wel, daar is ’n manier. Die vrou wat ’n skoonmaker by die tronk is, het ’n tienerseun. Hulle het hom nou al twee keer byna-byna opgelaai. Sy soek wanhopig na ander blyplek vir hom.” “Miskien kan ek help,” sê ek. “Dink jy sy kan besef haar horlosie moet herstel word?” Die volgende dag kom staan Toos in die deur van tannie Jans se kamer, waar ek juis met twee nuwe vrywilligers staan en gesels. Ek laat die horlosiewinkel al hoe meer in haar en Pappa se hande omdat ons “ondergrondse operasie” al hoe meer van my tyd in beslag neem. “Daar’s so ’n snaakse vroutjie hier onder,” sê Toos. “Sy sê haar naam is Mietje. Sy sê ek moet vir jou sê Rolf stuur haar.” Ek ontmoet vir Mietje in die eetkamer. Die hand in myne voel soos leer en is vol eelte van baie jare se vloerskrop. ’n Polletjie hare groei uit haar ken. “Ek verstaan jy het ’n seun op wie jy baie trots is.” “O ja!” Mietje se gesig verhelder toe ek oor haar seun praat. Ek neem die groot, lomp wekker wat sy saam met haar gebring het uit haar hande. “Kom haal môremiddag die wekker, dan sal ek hopelik vir jou goeie nuus hê.” Dié aand luister ons na ons boodskappers se verslae. Die lang en wrede winter het etlike plekke by verskeie adresse laat oopgaan. Daar is ’n plek op ’n nabygeleë tulpplaas, maar die boer dring daarop aan dat hy betaal moet word vir die waagstuk wat hy onderneem. Ons sal hom iets moet betaal – in silwer riksdaalders, nie papiergeld nie – plus ’n ekstra rantsoenkaartjie. Dit gebeur selde dat ’n “gasheer” of “gasvrou” geld vir hulle diens vra, maar as iemand dit wel doen, betaal ons heel gewillig. Toe Mietje die volgende oggend weer by ons aankom, haal ek ’n banknoot uit my beursie en skeur die hoek af. “Dis vir jou seun,” sê ek toe ek die hoekie vir haar gee. “Vanaand moet hy na die Gravenstenenbrug gaan. Daar is ’n boomstomp vlak langs die brug. Hulle het die boom verlede winter afgekap. Hy moet langs die stomp wag en na die kanaal kyk. ’n Man sal na hom toe kom en vra of hy kleingeld vir ’n banknoot het. Jou seun moet die hoek inpas in die banknoot wat die man na hom toe uithou en die man dan volg sonder om vrae te
vra.” Betsie kom by die eetkamer in net toe Mietje my hand in haar skuurpapierhande neem. “Ek sal julle vergoed. Op die een of ander manier en die een of ander tyd sal ek ’n manier vind om julle te vergoed vir wat julle doen.” Ek en Betsie glimlag vir mekaar. Hoe kan die eenvoudige vroutjie tog help met wat ons nodig het? Die werk word hoe langer, hoe meer. Namate elke nuwe behoefte opduik, word ’n nuwe antwoord egter gevind. Deur Pickwick ontmoet ons byvoorbeeld die man by die hooftelefoonsentrale. Sy departement hanteer die opdragte om lyne te verbind en te ontkoppel. Met ’n bietjie herbedrading en toordery met nommers kry hy ons telefoon gou weer aan die werk. Wat ’n dag is dit nie toe die ou muurtelefoon in die agterste portaal vir die eerste keer in drie jaar plesierig trieng nie! Hoe nodig het ons nie hierdie instrument nie! Teen dié tyd is daar tagtig Hollanders – bejaarde vroue en middeljarige mans saam met die jongmense – wat in “God se Geheime Diens” werk, soos ons onsself soms laggend noem. Die meeste van dié mense sien mekaar nooit nie; ons ontmoet so min moontlik van aangesig tot aangesig. Maar almal ken die Beje. Dis die hoofkwartier; die middelpunt van waar die spinnerak uitkring; die knoop waar al die drade kruis. Al is die telefoon ’n seën, is dit ook ’n nuwe bedreiging – net soos elke nuwe werker en elke nuwe skakel in die ketting. Ons stel die telefoon se luitoon so sag moontlik sodat dit net-net hoorbaar is. Maar wie kan sê wie miskien net deur die portaal loop wanneer dit begin lui? Hoe lank sal die nuuskierige oë in ons straat aanhou glo dat een klein horlosiewinkel so besig kan wees? Dis waar dat herstelwerk hoog in aanvraag is en dat baie wettige klante by ons winkel in- en uitstap, maar oor die algemeen is die winkel gans te besig, veral vroeg saans. Die aandklokreël is nou sewe-uur, wat in die lente en herfs geen ruimte laat vir ons werkers om in die nagure wettig op straat te wees nie. Op 1 Junie 1943, ’n uur en ’n half voor die aandklokreël, sit en dink ek ongeduldig agter my werksbank aan al hierdie dinge. Ses werkers nog nie terug nie, en daar is nog soveel los drade om voor sewe-uur saam te vat. Omdat dit die eerste van die maand is, sal Fred Koornstra die nuwe rantsoenkaartjies bring. Die
honderd kaartjies wat ’n jaar gelede na ’n buitensporige versoek gelyk het, is nou gans te min vir ons. Fred is maar een van ons verskaffers. Ander gesteelde kaarte kom van ver, onder meer van Delft. Hoe lank kan ons só voortgaan? wonder ek. Hoe lank kan ons voortgaan om op dié vreemde beskerming staat te maak? My gedagtes word onderbreek deur die klokkie by die sydeur. Ek en Betsie kom saam daar aan. In die stegie staan ’n jong Joodse vrou met ’n bondeltjie in komberse toegedraai in haar arms. Agter haar herken ek ’n dokter van die kraamhospitaal. Die baba, vertel hy vir ons in die portaal, is te vroeg gebore. Hy het die ma en haar kind reeds langer as wat toegelaat word in die hospitaal gehou omdat sy nêrens het om heen te gaan nie. Betsie hou haar arms na die baba uit. Op presies daardie oomblik maak Fred Koornstra die deur van die winkel se kant af oop. Hy knip sy oë ’n paar keer toe hy soveel mense in die portaal sien, maar draai dan doelgerig om na die meter teen die muur. Die jong dokter sien ’n man wat hy as ’n werklike meterleser beskou en word so wit soos sy boordjie. Ek wil hom graag gerusstel, ook vir Fred, maar ek weet: Hoe minder lede van die groep mekaar ken, hoe veiliger. Die arme dokter kry sluk-sluk ’n haastige tot siens uit terwyl Betsie en ek die ma en baba opneem na die eetkamer toe. Ons maak die deur agter ons toe en laat Fred met sy werk agter. Betsie neem ’n bakkie en skep vir die vrou van die sop wat sy vir aandete gekook het met ’n been wat al so dikwels in die soppot was. Die baba begin dun en skril huil. Ek wieg hom terwyl sy ma eet. Hier is ’n splinternuwe bedreiging, ’n klein vlugteling, te klein om die gevaar van harde geluide te besef. Ons het reeds baie Joodse kinders vir ’n nag en selfs ’n paar nagte in die Beje skuiling gegee, maar selfs die jongstes het byna dadelik die angswekkende stilte van diere wat gejag word, aangeleer. Op twee weke moet dié outjie nog uitvind hoe min vriendelikheid daar in sy wêreld vir hom wag. Vir hulle het ons ’n plek ver weg van ander huise af nodig. Die volgende dag stap die perfekte oplossing by die winkel in – ’n vriend van ons wat ’n pastoor in ’n dorpie buite Haarlem is. Sy huis staan ver van die straat af op ’n groot boomryke erf. “Goeiemore, Pastoor,” groet ek vriendelik terwyl die stukkies van die legkaart
netjies in my gedagtes in plek begin val. “Kan ek u help?” Ek kyk na die horlosie wat hy vir ons gebring het om reg te maak. Dit het ’n nuwe onderdeel nodig wat ons uiters moeilik in die hande gaan kry. “Maar vir u, Pastoor, doen ons ons uiterste bes. En nou… wil ek bieg.” Die pastoor se oë word troebel. “Bieg?” Ek neem hom by die agterdeur van die winkel uit en op met die trap na die eetkamer. “Ek moet bieg dat ek ook iets soek.” Die pastoor se gesig is nou die ene plooie soos hy frons. “Sal u bereid wees om ’n Joodse ma en haar baba in u huis te neem? Anders sal hulle ongetwyfeld in hegtenis geneem word.” Alle kleur verdwyn uit die man se gesig. Hy gee ’n tree agter-uit, weg van my af. “Juffrou Ten Boom! Ek hoop werklik nie u is betrokke by enige van hierdie ondergrondse bedrywighede nie. Dis so onveilig! Dink aan u vader! En aan u suster. Sy was nog nooit sterk nie.” Impulsief vra ek die pastoor om net daar te wag en ek hardloop boontoe. Betsie het die nuwelinge in Willem se ou kamer gesit, die verste van die vensters wat op die straat uitkyk. Ek vra die ma se toestemming om die baba by haar te neem. Die dingetjie voel soos ’n veertjie in my arms. In die eetkamer trek ek die kombersie van die kind se gesig af weg. Daar is ’n lang stilte. Die man buig vooroor en, ten spyte van sy teenstrydige gevoelens, steek hy sy hand uit na die vuisie wat om die komberspunt klou. ’n Oomblik sien ek op sy gesig die stryd tussen deernis en vrees. Toe staan hy regop. “Nee! Definitief nie! Ons almal kan ons lewe verloor weens hierdie Joodse kind!” Pappa verskyn ongesiens in die deur. “Gee die kind vir my, Corrie,” sê hy. Pappa hou die baba styf teen hom vas, sy baard raak aan die wangetjie en hy kyk na die gesiggie met sy oë net so blou en net so onskuldig soos die baba s’n. Uiteindelik kyk hy op na die pastoor. “U sê ons kan ons lewe weens hierdie kind verloor. Ek sou dit as die grootste eer beskou wat my gesin kan toekom.” Die pastoor draai vinnig om en stap by die kamer uit.
Ons moet dus maar ’n onbevredigende oplossing vir ons probleem aanvaar. Op die rand van Haarlem is ’n groenteplaas wat vlugtelinge kort rukkies versteek. Dit is nie juis ’n goeie plek nie, want die Gestapo was al voorheen daar tydens hulle strooptogte. Maar met die tyd tot ons beskikking is daar niks anders wat ons kan doen nie. Twee werkers neem die vrou en baba een middag daarheen. ’n Paar weke later hoor ons dat ’n klopjag op die plaas uitgevoer is. Toe die Gestapo by die skuur kom waar hulle die vrou weggesteek het, was dit nie die baba nie, maar die ma wat histeries begin skree het. Sy, die baba en hulle beskermers is almal weggeneem. Ons het nooit gehoor wat van hulle geword het nie.
Al het ons ’n vriend in die telefoonkantoor kan ons nooit seker wees dat daar nie op ons gesprekke ingeluister word nie. Ons ontwerp daarom ’n kodestelsel om ons ondergrondse boodskappe deur gesprekke oor horlosies te stuur. “Ons het ’n dameshorlosie hier wat herstel moet word, maar ek kry nie ’n dryfveer nie. Weet jy miskien wie een sal hê?” (Ons het ’n Joodse vrou wat ’n skuilplek nodig het en ons kan nie plek by ons gereelde hulpbronne kry nie.) “Ek het ’n horlosie hier met ’n wyserplaat wat probleme gee. Een van die uurgetalle het losgeraak en hou die wyser teë. Ken jy iemand wat dié soort herstelwerk doen?” (Ons het ’n Jood hier wie se gelaatstrekke sterk Semities is. Weet jy van iemand wat ’n geweldige risiko sal waag?) “Ek is jammer, maar die kinderhorlosie wat jy hier gelos het, is onherstelbaar. Het jy nog die kwitansie?” (’n Joodse kind het in een van ons huise gesterf. Ons het ’n begrafnispermit nodig.) Een oggend in die middel van Junie lui die telefoon en ons ontvang die volgende boodskap: “Ons het ’n manshorlosie hier wat ons baie probleme gee. Ons kan niemand vind om dit te herstel nie. Eerstens is die wyserplaat baie ouderwets…” ’n Jood met gelaatstrekke wat hom verraai. Die moeilikste persoon om voor plek te kry. “Stuur die horlosie oor. Ek sal kyk wat ek in ons winkel kan doen,” bied ek aan.
Presies om sewe-uur daardie aand lui die sydeur se klokkie. Vanuit die eetkamer, waar ons tee van roosblare en kersiestingels drink, kyk ek na die spieël in die venster. Selfs aan sy profiel kan ek sien dit is ons “ouderwetse horlosie”. Sy liggaamsbou, sy klere, selfs die manier waarop hy staan, is die Jood van die “music hall”-klug. Ek hardloop af deur toe. “Kom gerus in,” nooi ek. Die vriendelike, slank man in sy vroeë dertigerjare het bakore, is amper bles en dra ’n bril. Hy maak ’n oordrewe buiging en ek hou dadelik van hom. Die oomblik toe die deur toe is, haal hy ’n pyp uit. “Die eerste ding wat ek moet vra,” sê hy, “is of ek my goeie vriend, my pyp, moet agterlaat. Meyer Mossel en sy pyp word nie maklik geskei nie. Maar, goeie dame, as die reuk dalk in u klere en gordyne sal intrek, sê ek blymoedig tot siens aan my vriend, nikotien.” Ek lag. Van al die Jode wat al by ons huis ingekom het, is hy die eerste om dit so opgeruimd te doen en ons gerief in ag te neem. “Natuurlik hou jy maar jou pyp,” sê ek. “My pa rook sigare, as hy deesdae een in die hande kan kry.” “A… deesdae.” Meyer Mossel trek sy skouers, sy arms, ag, sommer alles op. “Wat kan ’n mens verwag wanneer die barbare die land platgeloop het.” Ek neem hom op eetkamer toe. Daar is sewe mense om die tafel, ’n Joodse egpaar wat op ’n plasing wag, drie ondergrondse werkers en Pappa en Betsie. Meyer Mossel se oë val dadelik op Pappa. “’n Aartsvader!” roep hy uit. Dis presies die regte ding om vir Pappa te sê. “Maar,” sê hy net so vrolik, “’n broer van die uitverkore volk!” “Ken u Psalm honderd en ses en sestig, Oupa?” vra Meyer met vonkelende oë. Pappa se gesig straal. Natuurlik is daar nie ’n Psalm 166 nie. Die Psalms sluit af met Psalm 150. Dit moet ’n grap wees, en niks gee vir Pappa groter vreugde as ’n Bybelgrap nie. “Psalm 166?” vra hy onskuldig.
“Sal ek dit vir u opsê?” vra Meyer. Pappa knik instemmend en Meyer trek weg. “Maar dis Psalm 100!” val Pappa hom in die rede. Toe helder sy gesig op. Natuurlik! Psalm 66 begin met presies dieselfde woorde as Psalm 100. Meyer het gevra of Pappa die honderdste én die ses en sestigste psalm ken. Die res van die aand hoor ek Pappa se onderdrukte laggie en die woorde: “Psalm honderd en ses en sestig!” Om kwart voor nege haal Pappa die ou Bybel met die koperbande van die rak af. Hy maak dit oop waar ons die vorige aand opgehou lees het, by die boek van Jeremia. Met skielike inspirasie gee hy die Bybel oor die tafel vir Meyer aan. “Ek sal dit as ’n groot eer beskou as jy vanaand vir ons sal voorlees,” sê Pappa. Terwyl hy die Boek liefdevol optel, staan Meyer op. Uit sy sak haal hy ’n kalotjie en sit dit op sy kop. Toe, van diep uit sy keel, half-singend, half-pleitend, kom die woorde van die ou profeet. Hy lees so vol gevoel en so vol pyn dat ons ons verbeel ons hoor die geweeklag van die balling self. Meyer Mossel vertel later vir ons dat hy die voorsanger in die sinagoge in Amsterdam was. Ten spyte van sy opgewekte geaardheid het hy al baie swaargekry. Die meeste van sy familielede is al in hegtenis geneem; sy vrou en kinders kruip op ’n plaas in die noorde van die land weg, maar die mense daar het geweier om hom ook in te neem, “om klaarblyklike redes”, sê hy met ’n grynslag op sy onmiskenbare gelaatstrekke. Mettertyd word dit vir ons almal duidelik dat dié beminlike man na die Beje gekom het om te bly. Dis beslis nie die ideale plek vir hom nie, maar vir Meyer kan niks in hierdie stadium ideaal wees nie. “Jy weet,” sê ek een aand vir hom, “jou naam hoef jou nie ook nog te verraai nie.” Uit die dae toe Willem ’n studie van die kerkgeskiedenis gemaak het, onthou ek die vierde-eeuse kerkvader Eusebius, en dié naam lyk vir my so gepas vir ons vriend. “Ek dink ons noem jou Eusebius,” besluit ek. Ons sit in tannie Jans se voorkamer saam met Kik en ’n paar ander jong mans wat vir ons vervalste paspoorte afgelewer het en toe te laat was om voor die aandklokreël terug te
keer. Meyer leun agteroor op sy stoel en kyk peinsend op na die plafon. Hy haal sy pyp uit sy mond. “Eusebius Mossel,” proe hy die naam. “Nee, dit klink nie heeltemal reg nie. Eusebius Christen Mossel.” Ons almal lag. “Moenie verspot wees nie,” sê Betsie. “Jy moet jou naam én van verander.” Kik kyk onderlangs na Pappa. “Oupa, wat van Smit? Dit is mos deesdae ’n gewilde naam.” “Dit lyk my so!” sê Pappa wat nie die grap snap nie. “Skielik buitengewoon gewild.” En Eusebius Smit word dit toe. Om Meyer se naam te verander is maklik. Dadelik word hy Eusie. Maar om Eusie so ver te kry om kos te eet wat nie kosjer is nie, wel, dit is ’n totaal ander saak. Die probleem is natuurlik dat ons dankbaar is vir enige kos wat ons kan kry. In hierdie derde jaar van die besetting staan ons ure lank in ’n ry om enigiets wat beskikbaar is in die hande te kry. Op ’n goeie dag kondig die koerant aan dat koepon nommer vier vir varkwors ingeruil kan word. Dis die eerste vleis wat ons in weke kry. Vol liefde berei Betsie die feesmaal voor en spaar elke druppeltjie vet om ander kos later mee te geur. “Eusie,” sê Betsie toe sy die stomende kastrol varkwors en aartappels tafel toe dra, “die dag het aangebreek.” Eusie slaan die as uit sy pyp en oorweeg sy penarie luidkeels. Hy, wat nog altyd kosjer geëet het; hy, die oudste seun van ’n oudste seun van ’n gerespekteerde familie; hy, Meyer Mossel Eusebius Smit, word sowaar gevra om varkvleis te eet. Betsie sit ’n porsie wors en aartappels voor hom neer. “Bon appétit.” Die aanloklike geur bereik ons vleishonger smaakkliere. Eusie lek oor sy lippe. “Natuurlik,” sê hy, “maak die Talmoed hiervoor voorsiening.” Hy steek sy vurk
in die vleis, byt hongerig daaraan en rol sy oë van pure plesier. “Ek sal dit gaan soek,” sê hy, “sodra ons klaar geëet het.” Asof Eusie se aankoms die laaste aarseling verdryf, is daar binne ’n week drie nuwe permanente toevoegings tot ons huiskring. Eerstens is daar Jop, ons huidige vakleerling, wat tydens sy daaglikse reis vanaf sy ouers se huis in die voorstede tot by ons reeds twee maal byna gevange geneem is om in die fabrieke te gaan werk. Toe dit die tweede keer gebeur, het sy ouers gevra of hy in die Beje kan woon. Ons het ingestem. Die ander twee is ’n jong prokureur, Henk, en ’n onderwyser, Leendert. Leendert lewer ’n besonderse bydrae tot die geheime lewe van die Beje. Hy installeer later selfs vir ons ’n elektriese waarskuwingstelsel. Teen dié tyd het ek geleer om die nagtelike reise na Pickwick met byna soveel vernuf as Kik af te lê. Een aand toe ek my koppie koffie met dankbaarheid neem, berispe my skeel vriend my behoorlik. “Cornelia,” sê hy en laat sak sy reuse liggaam op ’n fluweelstoel wat gans te klein vir hom is. “Ek verstaan jy het geen alarmstelsel in jou huis nie. Dis loutere dwaasheid. Ek verneem ook dat jy nie gereelde driloefeninge vir jou gaste hou nie.” Ek is altyd verstom oor hoe presies Pickwick alles weet wat in die Beje aangaan. “Jy weet ’n klopjag kan enige dag uitgevoer word,” sê Pickwick verder. “Ek kan nie sien hoe julle dit kan vermy nie. Daar is so baie mense wat by julle in- en uitgaan, en daar woon ’n NSB-agent net in die straat op bokant Kan se winkel. Jou geheime kamer beteken vir jou niks as mense nie betyds daar kan inkom nie. Ek ken vir Leendert. Hy is ’n goeie mens en ’n redelik goeie elektrisiën. Laat hy ’n gonser in elke kamer met ’n deur en ’n venster straat se kant toe insit. Hou dan driloefeninge totdat jou mense in minder as ’n minuut in daardie kamer kan verdwyn sonder om ’n spoor van hulle teenwoordigheid agter te laat. Ek stuur iemand om julle aan die gang te kry.” Daardie naweek doen Leendert die elektriese werk. Hy installeer ’n gonser naby die bokant van die trap, hard genoeg om deur die hele huis gehoor te word, maar nie buite nie. Toe bring hy knoppies aan by elke punt van waar die moeilikheid
die gouste gesien sal kan word. Een knoppie kom onder die eetkamer se vensterbank, net onder die spieël wat vir ons wys wie by die sydeur is. Nog een kom in die onderste portaal net binnekant die deur, en ’n derde een aan die binnekant van die voordeur op Barteljorisstraat. Hy bring ook ’n knoppie agter die toonbank in die winkel aan, een by elke werksbank en onder die vensters in tannie Jans se kamers. Ons is gereed vir ons eerste oefenlopie. Die vier “onsigbare” gaste in ons huishouding klim reeds twee keer per dag op na die geheime kamer: soggens om hulle nagklere, beddegoed en toiletbenodighede daar te gaan bêre, en saans om hulle “daggoed” te gaan wegsit. Die lede van ons groep wat die nag daar moet deurbring, laat reënjasse, hoede, alles wat hulle met hulle saamgebring het, in daardie kamer. Dit veroorsaak ’n stroom van verkeer by my kamertjie in en uit, wat nou nog ’n hele tree kleiner is. Baie nagte is die laaste gesig wat ek sien Eusie in sy lang rok en nagmus met die klossie wat sy dagklere deur die geheime paneel aangee. Die doel van die driloefeninge is egter om te sien hoe vinnig hulle die kamer enige tyd van die dag of nag kan bereik sonder om lank voor die tyd gewaarsku te word. ’n Lang, blas jong man daag een oggend van Pickwick af op om my te leer hoe om die driloefeninge uit te voer. “Smit!” roep Pappa uit toe die jong man homself voorstel. “Dis werklik verbasend! Ons kry in die laaste tyd die een Smit ná die ander hier. Jy lyk regtig baie soos…” Mnr Smit verskoon homself van Pappa se genealogiese navrae en volg my boontoe. “Etenstye,” sê hy, “is ’n gunsteling tyd vir ’n klopjag. Ook in die middel van die nag.” Hy stap van kamer na kamer en wys oral vir my op die tekens dat daar meer as drie mense in die huis bly. “Oppas vir snippermandjies en asbakkies.” Hy gaan staan in ’n slaapkamerdeur. “As die klopjag in die nag kom, moet hulle nie net hulle lakens en komberse gryp nie. Hulle moet ook die matrasse omrol. Dis een van die SD se gunsteling toertjies… om te voel vir ’n warm kol op die bed.” Mnr Smit bly vir middagete. Daar is nou elf van ons aan tafel. Dit sluit in ’n Joodse vrou wat die vorige nag haar opwagting gemaak het, en ’n nie-Joodse
vrou en haar dogtertjie, lede van ons geheime diens wat as “geleiers” optree. Hulle drie sal net ná middagete na ’n plaas in Brabant vertrek. Betsie stuur net die bredie om, so kunstig voorberei dat ’n mens die vleis skaars mis, toe mnr Smit sonder waarskuwing agteroor leun en die klokkie onder die venster druk. Bokant ons hoor ons die gonser. Mense spring op, gryp glase en borde en maak spore trap se kant toe. Die kat hardloop van skone verbouereerdheid halfpad teen die gordyn op en bly daar hang. “Vinniger!” “Nie so hard nie!” “Jy mors!” bereik die uitroepe ons terwyl ek, Pappa en Betsie die tafel en stoele haastig herrangskik sodat dit lyk of net drie mense besig is om te eet. “Laat staan maar my plek,” sê mnr Smit. “Hoekom kan julle nie ’n gas vir middagete hê nie? Die vrou en haar dogtertjie kon ook maar gebly het.” Uiteindelik sit ons weer. Bokant ons is daar doodse stilte. Vier minute. ’n Rukkie later is ons almal weer om die eetkamertafel. Mnr Smit stal die inkriminerende getuienis wat hy gekry het voor hom uit: twee lepels en ’n stuk geelwortel op die trap, en as uit ’n pyp in ’n “onbewoonde” slaapkamer. Almal kyk na Eusie wat tot by die punte van sy ore bloos. “Ook daardie hoede,” sê hy en wys na die ma en dogter se hoede wat nog aan die kapstok teen die muur hang. “As julle moet wegkruip, dink eers goed waarmee julle hier aangekom het. Maar dit daar gelaat. Julle is eenvoudig net te stadig.” Die volgende nag druk ek weer die alarm. Dié keer doen ons ons oefening een minuut en drie en dertig sekondes vinniger. Met ons vyfde probeerslag doen ons dit binne twee minute. Ons bereik nooit Pickwick se ideaal van minder as ’n minuut nie, maar met al die oefening leer ons om op te spring, te los waarmee ons ook al besig is en almal wat moet wegkruip te help om binne sewentig sekondes in die geheime kamer te wees. Ek, Pappa en Toos werk aan “vertragingstaktiek” wat ons kan gebruik as die Gestapo by die winkeldeur sou in kom. Betsie vind ’n eenderse strategie vir die sydeur. Ons hoop om met dié taktiek sewentig kosbare sekondes te wen en moontlik lewens te red.
Omdat die driloefeninge so nou saamhang met die vrees wat aan ons gaste vreet – al sê hulle dit nooit hardop nie, is dit altyd in die atmosfeer teenwoordig – probeer ons om dit nie so ernstig op te neem nie. “Dis soos ’n speletjie,” vertel ons vir mekaar. “’n Resies om ons eie rekord te verbeter.” Een van ons groep is die eienaar van die bakkery in die volgende straat. Vroeg in die maand gee ek vir hom ’n voorraad suikerkoepons. Wanneer ek besluit dis tyd vir ’n driloefening, gaan ek na hom toe vir ’n sakkie roomkoekies – ’n onuitspreeklike fees in dié suikerlose dae. Ek steek dit dan in my werksbank weg en haal dit net uit as ’n beloning vir ’n suksesvolle driloefening. Almal is uitbundig soos kinders wanneer ek dié belonings uitdeel. Elke keer is my bestelling vir roomkoekies groter, want teen hierdie tyd het ons, buiten die werkers wat ons by die stelsel wil insluit, nog drie vaste loseerders: Thea Dacosta, Meta Mosanto en Mary Itallie. Mary Itallie, ons oudste gas, is die een wat die grootste probleem oplewer. Die oomblik toe Mary by ons deur instap, hoor ek die asmatiese gefluit van haar bors, die rede waarom meeste ander mense onwillig was om haar in te neem. Omdat haar siekte die ander se veiligheid in gevaar stel, hou ons ’n vergadering. Die sewe vir wie dit die meeste raak – Eusie, Jop, Henk, Leendert, Meta, Thea en Mary self – sluit aan by my, Pappa en Betsie in tannie Jans se voorkamer. “Dit help nie om voor te gee nie,” begin ek. “Mary het asma. Wanneer sy met die trap opklim, kan sy julle almal in gevaar stel.” In die daaropvolgende stilte klink Mary se moeilike asemhaling besonder hard. “Mag ek praat?” vra Eusie. “Natuurlik.” “Dit lyk vir my ons almal is hier in julle huis weens die een of ander probleem. Ons is die weeskinders, mense wat niemand anders wou gehad het nie. Ons elkeen stel die ander in gevaar. Ek stem dat Mary bly.” “Goed,” sê prokureur Henk, “kom ons stem daaroor.” Hande begin in die lug opgaan, maar dan praat Mary sukkelend. “Geheime
stemming,” kry sy dit uiteindelik uit. “Niemand moet verleë voel nie.” Henk bring ’n vel papier vanaf die tafel in die kamer langsaan en skeur dit in nege strokies. “Julle ook,” sê hy en gee vir my, Pappa en Betsie elkeen ’n stembriefie. “As ons hier ontdek word, gaan julle net so swaar soos ons kry.” Hy deel potlode uit. “Skryf ‘nee’ as die waagstuk te groot is en ‘ja’ as julle dink sy behoort hier te bly.” ’n Oomblik krap nege potlode oor papier en dan maak Henk al die opgevoude strokies papier bymekaar. Nege stukkies papier, nege keer die woord “ja”.
Só word ons “gesin” gevorm. Sommige bly net ’n dag of miskien ’n week by ons, maar dié sewe bly en vorm die kern van ons gelukkige huishouding. Dat ons huis gelukkig kan wees in so ’n tyd en in sulke omstandighede is grootliks aan Betsie te danke. Omdat ons gaste se wêreld so klein is, word elke aand onder Betsie se leiding ’n deur na die wye wêreld daar buite. Soms hou ons konserte met Leendert op die viool en Thea, ’n werklik begaafde pianis, voor die klavier. Of Betsie kondig ’n “Vondelaand” aan en ons elkeen lees ’n gedeelte voor. Een aand per week oorreed sy vir Eusie om vir ons ’n les in Hebreeus te gee, en ’n ander aand leer Meta ons Italiaans. Ons hou die aand se bedrywighede maar kort, want die stad het nou slegs ’n kort rukkie in die aand elektrisiteit. Ons moet kerse bymekaarmaak vir ’n noodgeval. As die gloeilampe flikker en dof word, stap ons egter eetkamer toe waar my fiets op sy staander staan. Een van ons klim op, en begin trap om die koplig so helder moontlik te laat brand. Die ander gaan sit en, terwyl die fietsryer so vinnig moontlik trap, lees een van ons verder van waar ons die vorige aand opgehou het. Ons maak dikwels beurte om te trap en te lees, afhangende van hoe moeg ons bene en stemme is. Maar só lees ons deur vele geskiedenisboeke, romans en dramas. Pappa gaan altyd om kwart oor nege, ná huisgodsdiens, bed toe, maar die res van ons talm, onwillig om die gemeensaamheid te verbreek, hartseer om die aand tot ’n einde te sien kom. “O wel,” sê Eusie miskien wanneer ons begin kamer toe
gaan, “miskien sal daar vanaand ’n driloefening wees! Ek het ’n week laas ’n roomkoekie gehad…”
8
Stormwolke pak saam
Al is die aande so lekker en ontspanne, word die dae al hoe meer gespanne. Ons is te veel mense; die groep is te groot; die spinnekopweb is te wyd. ’n Jaar en ’n half kon ons daarin slaag om nie die aandag op ons dubbele lewe te vestig nie. Op die oog af is ons steeds die bejaarde horlosiemaker en sy twee oujongnooidogters wat bokant hulle winkeltjie woon. In werklikheid is die Beje die middelpunt van ’n beweging wat nou reeds tot aan die verste hoeke van Holland strek. Elke dag kom tientalle werkers en verslae hierheen. Elke dag ontvang ons vele versoeke. Die een of ander tyd gaan ons ’n fout maak. Dis veral oor etenstye dat ek bekommerd raak. Daar is nou so baie mense vir ete dat ons die stoele skuins langs die eetkamertafel moet draai. Die kat hou van dié reëling. Eusie het hom die Hebreeuse naam “Maher Shalal Hashbaz” gegee, wat heel toepaslik beteken: “Ylings na die buit, inderhaas na die prooi.” Met die stoele so naby aan mekaar kan MS Hashbaz die hele tafel op ons skouers langs omsirkel terwyl hy hard spin en al in die rondte beweeg. Ek bly egter ongemaklik omdat daar so baie van ons is. Die eetkamer is maar net vyf trappies bokant die straatvlak. ’n Lang verbyganger kan maklik by die venster inkyk. Ons het ’n wit gordyn voor die venster gehang, wat ’n soort skerm verskaf en terselfdertyd lig inlaat. Tog is dit net wanneer ons die swaar, donker skerms in die nag toetrek dat ek werklik privaat en veilig voel. Toe ek een dag tydens middagete deur die dun gordyn kyk, verbeel ek my ek sien ’n figuur net buite die stegie staan. Toe ek ’n minuut later weer kyk, is die figuur steeds daar. Daar is geen rede vir enigiemand om daar rond te draal nie, tensy hy nuuskierig is om te weet wat in die Beje aangaan. Ek staan op en trek die gordyn op ’n skrefie oop. ’n Entjie weg, skynbaar nie in staat om te roer nie, staan Katrien van Nollie se huis.
Ek skiet met die trap af, pluk die deur oop en trek haar binnekant toe. Al is dit ’n warm Augustusdag is die vrou se hande so koud soos ys. “Katrien! Wat maak jy hier? Hoekom het jy net daar gestaan?” “Sy’t mal geword!” snik sy. “Jou suster het mal geword!” “Nollie? O genade, wat het dan gebeur?” “Hulle het gekom,” sê sy, “die SD! Ek weet nie wat hulle weet of wie hulle vertel het nie. Jou suster en Annaliese was in die sitkamer, en ek het haar gehoor!” Sy huil weer dat sy eintlik ruk. “Ek het haar gehoor!” “Wat het jy gehoor?” skreeu ek byna. “Wat sy vir hulle vertel het! Hulle het na Annaliese gewys en gesê: ‘Is sy ’n Jodin?’ En jou suster het gesê: ‘Ja.’” Ek voel hoe my knieë begin bewe. Annaliese, pragtige blonde Annaliese met die volmaakte vals dokumente. Sy het ons vertrou! O, Nollie, Nollie, wat het jou onbuigbare eerlikheid tog gedoen? “En toe?” vra ek. “Ek weet nie. Ek het by die agterdeur uitgehardloop. Sy het mal geword.” Ek laat Katrien in die eetkamer staan, stoot my fiets met die trap af en jaag so vinnig ek kan oor die net meer as ’n kilometer en ’n half tot by Nollie. Vandag lyk die lug bokant die Wagenweg nie groter nie. Op die hoek van Bos- en Hovenstraat laat leun ek my fiets teen ’n lamppaal. Ek staan en hyg met my hart wat in my keel klop. Toe stap ek so onverskillig moontlik met die sypaadjie op na die huis toe. Behalwe vir ’n motor in die straat reg voor die huis lyk alles bedrieglik normaal. Ek stap verby die huis. Nie ’n geluid van agter die wit gordyne nie. Niks om die huis van die replikas rondom hom te onderskei nie. Toe ek by die hoek kom, draai ek om. Op daardie oomblik gaan die deur oop en Nollie stap uit. Agter haar loop ’n man in ’n bruin pak. ’n Minuut later verskyn ’n tweede man. Hy trek Annaliese aan haar arm, maar moet haar terselfdertyd ondersteun. Die jong vrou se gesig is so wit soos ’n laken. Twee keer dink ek sy gaan flou word voordat sy by die motor kom. Die motor se deure klap toe, die enjin brul en hulle trek daar weg. Ek ry terug Beje toe en veg die heeltyd teen die trane van angs. Nollie, hoor ons
gou, is na die polisiestasie om die hoek geneem, na een van die selle aan die agterkant. Annaliese is na die ou Joodse teater in Amsterdam geneem, van waar die Jode na die uitwissingskampe in Duitsland en Pole geneem word. Dis Mietje, krom, afgesloofde Mietje wie se aanbod van hulp ons buite rekening gelaat het, wat ons in verbinding met Nollie hou. Sy is baie vrolik, sê Mietje, en sy sing gesange en liedere in haar hoë, soet sopraanstem. Hoe kan sy sing as sy ’n ander mens verraai het? Mietje lewer elke oggend die brood wat Betsie gebak het af, en later ook die blou oortrektrui waarvoor Nollie gevra het. Haar gunsteling trui, die een met die blomme op die sak geborduur. Mietje dra nog ’n boodskap van Nollie af oor, hierdie een spesiaal vir my. “Geen kwaad sal met Annaliese gebeur nie. God sal nie toelaat dat hulle haar Duitsland toe neem nie. Hy sal haar nie laat ly nie omdat ek aan Hom gehoorsaam was.” Ses dae ná Nollie se arrestasie lui die telefoon. Dis Pickwick. “Ek wonder, my hartjie, of ek jou kan lastig val om self die horlosie af te lewer.” ’n Boodskap wat nie oor die telefoon oorgedra kan word nie. Ek ry dadelik met my fiets Aerdenhout toe. Vir veiligheid neem ek ’n manshorlosie saam. Pickwick wag totdat ons in die sitkamer en die deur toe is. “Gisteraand is daar by die Joodse teater in Amsterdam ingebreek. Veertig Jode is gered. Een van hulle – ’n jong vrou – het daarop aangedring dat Nollie weet: Annaliese is vry.” Hy kyk na my met een van sy skeel oë. “Verstaan jy dié boodskap?” Ek knik, te oorweldig met verligting en vreugde om te praat. Hoe het Nollie geweet? Hoe kon sy so seker wees?
Ná tien dae in die tronk in Haarlem word Nollie na die federale tronk in Amsterdam oorgeplaas. Pickwick sê die Duitse dokter in bevel van die gevangenishospitaal het baie deernis. Hy reël nou en dan ’n mediese ontslag. Ek vertrek dadelik na Amsterdam om hom te gaan spreek. Wat kan ek sê, wonder ek, terwyl ek in die ingangsportaal van sy huis wag. Hoe kan ek dié man se guns wen?
In die portaal lê drie yslike Dobermann pinschers wat nou en dan aan my bene en hande kom ruik. Ek onthou die boek wat ons nou hardop by die fietslamp lees oor hoe om vriende te wen en mense te beïnvloed. Een van die tegnieke wat Dale Carnegie voorstel, is: Vind uit wat die persoon se stokperdjie is. Stokperdjie… honde… Ek wonder… Uiteindelik keer die diensmeisie terug en neem my na ’n sitkamer. “Hoe vindingryk van u, Dokter!” sê ek in Duits vir die man met die grys hare wat op die rusbank sit. “Vindingryk?” “Ja, om hierdie pragtige honde saam met u te bring. Hulle moet goeie geselskap wees terwyl u so ver van u gesin af is.” Die dokter se gesig verhelder. “Hou u van honde?” Die enigste honde wat ek ooit geken het, is Harry de Vries se bulhonde. “Bulhonde is my gunstelinge. Hou u van bulhonde?” “Mense besef dit nie,” sê die dokter gretig, “maar bulhonde is baie liefdevol.” Die volgende tien minute, terwyl ek my hoof breek oor alles wat ek al oor honde gelees en gehoor het, praat ons oor hierdie diere. Toe staan die dokter skielik op. “Maar ek is seker u het nie hierheen gekom om oor honde te praat nie. Wat pla u?” Ek kyk hom vas in die oë. “Ek het ’n suster in die tronk hier in Amsterdam. Ek het gewonder of… ek glo sy is nie baie gesond nie.” Die dokter glimlag. “So u stel eintlik glad nie in honde belang nie?” “Ek stel nóú in hulle belang,” sê ek en glimlag ook. “Maar ek stel meer in my suster belang.” “Wat is haar naam?” “Nollie van Woerden.” Die dokter verlaat die kamer en keer dan met ’n bruin aantekeningboek terug.
“Ja. Een van die onlangse aankomelinge. Vertel my meer oor haar. Hoekom is sy in die tronk?” Ek waag ’n kans en vertel vir die dokter dat Nollie se misdaad is dat sy ’n Jood weggesteek het. Ek vertel hom ook dat sy die ma van ses kinders is. As hulle sonder hulp gelaat word, sou hulle ’n las vir die staat wees. (Ek sê natuurlik glad nie dat die jongste kind nou reeds sewentien is nie.) “Wel, ons sal sien.” Hy loop na die sitkamerdeur toe. “U moet my nou eers verskoon.” Toe ek op die trein op pad terug is Haarlem toe voel ek meer bemoedig as ooit sedert Nollie in hegtenis geneem is. Maar toe dae, ’n week en uiteindelik twee weke verbygaan en daar nog geen verdere nuus is nie, gaan ek terug Amsterdam toe. “Ek kom kyk hoe dit met die Dobermanns gaan,” sê ek vir die dokter. Hy dink glad nie dit is snaaks nie. “U moet my nie lastig val nie. Ek weet u het nie gekom om oor die honde te praat nie. U moet my tyd gee.” Daar is dus niks anders om te doen as om te wag nie.
Dis ’n helder middag in September toe sewentien van ons om die eetkamertafel ingedruk sit. Plotseling word Nils, een van ons werkers wat oorkant my aan die tafel sit, wasbleek. Hy het kom verslag doen dat Katrien veilig op ’n plaas noord van Alkmaar aangekom het. Nou hou Nils sy stem so laag en normaal moontlik. “Moenie omdraai nie. Iemand kyk oor die gordyn.” Óór die gordyn? Maar dis gans onmoontlik! Hy sal amper drie meter lank moet wees. Almal om die tafel raak doodstil. “Hy staan op ’n leer, besig om die vensters te was,” sê Nils. “Ek het nie gevra dat die vensters gewas moet word nie,” erken Betsie. Wie dit ook al is, ons moenie in dié versteende, skuldige stilte bly sit nie. Eusie vind iewers inspirasie en begin vir Pappa ’n gelukkige verjaarsdag toesing. Ons almal snap sy idee en sing lustig saam: “Veels geluk, liewe Oupa…” Die liedjie
weerklink nog deur die Beje toe ek by die sydeur uitgaan en opkyk na die man wat ’n emmer en spons vashou. “Wat doen jy? Ons wil nie die vensters gewas hê nie. Veral nie tydens die partytjie nie.” Die man haal ’n stuk papier uit sy sak en kyk daarna. “Is dit nie Kuiper se plek nie?” “Hy is oorkant die straat. Maar kom gerus in en vier die verjaarsdag saam met ons.” Die man skud sy kop. Hy bedank my, maar hy het werk om te doen. Ek kyk hoe hy Barteljorisstraat met sy leer na Kuiper se lekkergoedwinkel oorsteek. “Het dit gewerk? Dink jy hy het gespioeneer?” vra almal tegelyk. Ek antwoord nie. Ek weet nie.
Dis die swaarste. Om nooit te weet nie. Een van die grootste onsekerhede is hoe ek sou reageer as ek uitgevra sou word. Solank ek wakker is, voel ek taamlik seker van myself. Maar as hulle in die nag sou kom… Weer en weer werk die groep aan my – Nils, Henk, Leendert. Sonder waarskuwing bars hulle by my kamer in, skud my wakker en oorval my met vrae. Die eerste keer toe dit gebeur, is ek doodseker dit is ’n werklike klopjag. Daar is ’n verskriklike gestamp aan die deur en toe die skerp straal van ’n flitslig in my oë. “Staan op! Op jou voete!” Ek kan nie die man sien wat met my praat nie. “Waar steek jy jou nege Jode weg?” “Ons het nou net ses Jode.” ’n Aaklige stilte volg. Die kamerlig gaan aan. Rolf staan daar en hou sy kop vas. “O nee, o nee,” sê hy weer en weer. “Dit kan tog nie so moeilik wees nie.” “Dink nou mooi,” sê Henk, wat net agter Rolf staan. “Die Gestapo probeer jou betrap. Die antwoord is: ‘Watter Jode? Ons het nie Jode hier nie!’” “Kan ek weer probeer?”
“Nie nou nie,” sê Rolf. “Jy is nou wawyd wakker.” ’n Paar nagte later probeer hulle weer. “Die Jode wat jy wegsteek, waar kom hulle vandaan?” Ek sit regop, heeltemal deurmekaar. “Ek weet nie. Hulle kom sommer net na my deur toe.” Rolf smyt sy hoed op die vloer neer. “ Nee, nee, nee!” skreeu hy. “Watter Jode? Daar is nie Jode nie! Kan jy dit dan nie leer sê nie?” “Ek sal leer,” belowe ek. “Ek sal beter vaar.” En sowaar! Die volgende keer is ek heelwat wakkerder. Tientalle skaduagtige figure vul die kamer. “Waar steek jy die rantsoenkaartjies weg?” vra ’n stem. Binne-in die onderste trappie, natuurlik, maar dié keer gaan ek nie weer gevang word nie. ’n Geslepe antwoord kom skielik in my gedagtes op. “In die Frieslandse horlosie buite die eetkamerdeur.” Kik kom sit langs my op die bed en sit sy arm om my. “Dit was baie beter, tannie Corrie,” sê hy. “Dié keer het jy harder probeer. Maar onthou, jy het geen kaartjies nie. Net die drie, vir jou, vir Oupa en vir tannie Betsie. Daar is geen ondergrondse bedrywigheid hier in die Beje nie. Jy verstaan glad nie waarvan hulle praat nie…” Stadig maar seker, en met herhaalde oefening, raak ek al hoe beter. En tog, as die tyd nou moet aanbreek dat daar werklike Gestapo-agente aan my deur klop, streng opgelei om die waarheid uit mense te trek, hóé sal ek optree?
Willem se ondergrondse werk bring hom nou dikwels in Haarlem. Daar is iets soos wanhoop gemeng met die diep lyne van kommer op sy gesig. Twee keer reeds was die soldate by die verpleeginrigting. Al het hy dit reggekry om hulle te bedrieg oor die meeste van die Jode wat nog daar woon, het hulle een siek, blinde vrou weggeneem. “Een en negentig!” hou Willem aan met sê. “Sy kon nie eens loop nie. Hulle moes haar motor toe dra.”
Tot dusver het Willem se amp as predikant enige direkte optrede teen hom en Tine voorkom, maar hy word nou nog noukeuriger as ooit tevore dopgehou, sê hy. Om ’n amptelike rede vir sy besoeke aan Haarlem te verskaf, begin Willem ’n weeklikse biduur elke Woensdagoggend in die Beje hou. Willem kan egter niks op ’n geroetineerde manier doen nie – allermins gebedsbyeenkomste. Gou word die byeenkomste deur tientalle inwoners van Haarlem bygewoon, honger vir iets om in te glo in hierdie vierde jaar van die besetting. Die meeste van dié wat biduur toe kom, weet niks van die dubbellewe in die Beje nie. Op ’n manier hou hulle ’n nuwe gevaar in wanneer hulle by werkers en koeriers van ander ondergrondse groepe op die nou trap verbyloop. En tog, dink ons, kan dit voordelig wees dat groot groepe onskuldige mense nou in- en uitbeweeg. Altans, dit is waarop ons hoop.
Een aand sit ons ná die aandklokreël om die tafel – ons drie Ten Booms, ons sewe “vaste gaste” en die twee Jode vir wie ons nou ’n skuilplek soek – toe die klokkie by die winkeldeur lui. ’n Klant ná ure? Boonop iemand wat uittartend genoeg is om ná die aandklokreël in Barteljorisstraat te gaan staan? Ek haal die sleutels uit my sak en stap haastig af portaal toe. Ek sluit die werkswinkel se deur oop en stap voelvoel deur die donker winkel. By die voordeur staan ek ’n oomblik en luister. “Wie is daar?” roep ek. “Onthou jy my?” vra ’n man in Duits. “Wie is dit?” vra ek in dieselfde taal. “’n Ou vriend wat kom kuier. Maak oop die deur!” Ek peuter met die slot en maak die deur versigtig oop. Dis ’n Duitse soldaat. Voor ek die alarmknoppie by die deur kan druk, stoot hy sy pad na binne oop. Toe haal hy sy pet af. In die Oktoberskemer herken ek die jong Duitse horlosiemaker vir wie Pappa vier jaar gelede ontslaan het. “Otto!” roep ek uit.
“Kaptein Altschuler,” verbeter hy. “Ons posisies het nou effens omgeruil, of hoe, mej Ten Boom?” Ek kyk na sy uniform. Hy is nie ’n kaptein of eens naby aan ’n kaptein nie, maar ek sê niks nie. Hy kyk in die winkel rond. “Dieselfde bedompige ou plekkie,” sê hy. Hy steek sy hand na die muurskakelaar uit, maar ek sit my hand vinnig bo-oor. “Nee! Ons het nie donker skerms in die winkel nie!” “Wel, kom ons gaan dan boontoe waar ons lekker oor die ou dae kan gesels. Is daardie ou horlosieskoonmaker nog hier rond?” “Christoffels? Hy is verlede jaar oorlede omdat hy nie genoeg vuurmaakgoed gehad het nie.” Otto trek sy skouers op. “Ook maar goed so! En die vrome ou Bybelleser?” Ek skuif stadig nader aan die verkoopstoonbank waar daar nog ’n klokkie is. “Dit gaan goed met Pappa, dankie.” “Wel, gaan jy my nie boontoe nooi om die mense te groet nie?” Waarom is hy so gretig om boontoe te gaan? Het hierdie ellendige vent net uit leedvermaak hierheen gekom, of vermoed hy iets? My vinger voel die klokkie raak. “Wat was dit?” Otto vlieg agterdogtig om. “Wat was wát?” “Daardie geluid. Ek het ’n soort gezoem gehoor.” “Ek het niks gehoor nie.” Maar Otto loop deur die werkswinkel agtertoe. “Wag net gou!” roep ek agter hom aan. “Laat ek net eers die voordeur sluit, dan gaan ek saam met jou boontoe! Ek… ek wil sien hoe lank dit hulle kos om jou te
herken.” Ek draal so lank ek kan by die deur. Hy vermoed definitief iets. Dan volg ek hom deur die agterdeur tot in die portaal. Nie ’n geluid kom uit die eetkamer of met die trap af nie. Ek vlieg langs Otto verby en klop aan die deur. “Pappa! Betsie!” roep ek in wat ek vurig hoop soos ’n spelerige stem klink. “Ek gee julle drie… h’m… nee, ses raaiskote wie hier is!” “Ek het nie nou tyd vir raai-raai speel nie!” Otto steek sy arm by my verby en stamp die deur oop. Pappa en Betsie kyk van hulle borde af op. Die tafel is vir drie gedek. My bord met kos staan ook daar. Alles is so volmaak uitgevoer dat selfs ek, wat so pas twaalf mense sien eet het, skaars kan glo dat daar net ’n onskuldige ou man saam met sy twee dogters eet. Die “Alpina”-bordjie staan op die buffet. Hulle het alles onthou. Ongenooi trek Otto ’n stoel uit. “Wel!” kraai hy van lekkerkry. “Dinge het toe gebeur net soos ek voorspel het, of hoe?” “So lyk dit,” sê Pappa saggies. “Betsie,” sê ek, “gee vir kaptein Altschuler tee, asseblief.” Otto sluk ’n mondvol van die tee wat Betsie vir hom inskink. Dan kyk hy agterdogtig na ons almal rondom die tafel. “Waar kry julle regte tee? Niemand anders in Holland het regte tee nie.” Hoe onnosel van my, berispe ek myself. Die tee kom natuurlik van Pickwick af. “As jy dan moet weet,” sê ek, “dit kom van ’n Duitse offisier. Maar jy mag nie verder uitvra nie.” Ek probeer voorgee dat ons ’n geheime verhouding met ’n hoë Duitse offisier het. Otto sloer ’n kwartier langer. En toe, dalk omdat hy voel hy het sy oorwinning duidelik genoeg onderstreep, slenter hy by die huis uit, die leë strate in. Eers ná nog ’n halfuur waag ons dit om die teken te gee dat alles veilig is. Nege inmekaargedrukte en bewerige mense kom te voorskyn.
Die tweede week in Oktober, tydens ’n besonder bedrywige oggend met “ondergrondse” probleme, lui die geheime telefoon onder in die portaal. Ek hardloop vinnig om dit te gaan antwoord. Net ek, Pappa of Betsie antwoord ooit die telefoon. “Wel,” sê ’n stem, “kom julle my dan nie haal nie?” Dis Nollie. “Nollie! Wanneer… hoe… waar is jy?” “Op die stasie in Amsterdam. Maar ek het nie geld vir ’n treinkaartjie nie.” “Bly net daar! Nollie, ons kom jou nou haal!” Ek ry met my fiets na die hoek van Bos- en Hovenstraat en jaag saam met Flip en die kinders wat by die huis is na Haarlem se stasie toe. Ons sien vir Nollie nog voordat ons trein op Amsterdam se stasie tot stilstand kom. Haar helderblou trui is soos ’n lap blou lug in die donker gebou. Dit is ’n vreugdevolle herontmoeting. Sewe weke in die tronk het haar bleek gelaat, maar andersins is sy dieselfde stralende Nollie. ’n Gevangenisdokter het haar lae bloeddruk as baie ernstig verklaar, iets wat haar permanent ongeskik kon laat en haar ses kinders ’n las vir die staat sou maak. Haar gesig is skielik vraend, want sy kan dit nie verstaan nie.
Kersfees 1943 is net om die draai. Die ligte sneeu wat geval het, is die enigste feestelike karaktertrek van die seisoen. Elke gesin, so lyk dit, het iemand in die tronk of in ’n werkerskamp of iemand wat wegkruip. Ná ’n lang tyd lê die godsdienstige boodskap van hierdie vakansietyd weer sterk in almal se gedagtes. By die Beje het ons nie net Kersfees om te vier nie, maar ook Chanoeka, die Joodse “fees van die ligte”. Betsie ontdek ’n Chanoeka-kandelaar tussen die waardevolle dinge wat heel agter in ons eetkamerkas gebêre word en sy sit dit op die regop klavier neer.
Elke aand steek ons nog ’n kers aan terwyl Eusie die verhaal van die Makkabeërs lees. Dan sing ons geheimsinnige, hartseer woestynliedere. Op dié aande is ons almal baie sterk Joods. Omtrent die vyfde aand van die fees van die ligte, terwyl ons almal om die klavier staan, lui die deurklokkie in die stegie. Ek maak die deur oop. Dis mev Beukers, die vrou van die oogkundige langsaan, wat buite in die sneeu staan. Mev Beukers is rond en kalm en haar man net mooi die teenoorgestelde – skraal en bekommerd. Vanaand is haar ronde gesig egter geplooi van bekommernis. “Dink jy julle Jode kan ’n bietjie sagter sing? Ons kan hulle deur die mure hoor en… wel, daar is allerhande soorte mense in dié straat…” Terug in tannie Jans se kamers bespreek ons die nuus met die grootste verbystering ooit. As die Beukers alles van ons sake af weet, hoeveel ander mense in Haarlem weet dit ook? Nie lank hierna nie, vind ons uit van nog iemand wat weet – die polisiehoof self. Een donker Januarie-oggend, toe dit dreig om weer te sneeu, kom Toos by die ondergrondse beweging se “hoofkwartier” in tannie Jans se agterste kamer ingestorm met ’n brief in haar hand vasgeklem. Die koevert dra die seël van Haarlem se polisie. Ek skeur dit oop. Binne-in is die polisiehoof se eie skryfpapier, en daarop staan een kort reëltjie met die hand geskryf. Ek lees dit saggies en toe hardop: “Kom vanmiddag drie-uur na my kantoor toe.” Twintig minute lank probeer ons die brief ontleed. Party voel dis nie ’n voorspel tot ’n inhegtenisneming nie. Waarom sou die polisie my die geleentheid gee om te ontsnap? Tog is dit die veiligste om voor te berei op ’n klopjag en gevangenskap. Werkers glip een-een by die huis uit. Loseerders maak snippermandjies leeg en tel stukkies naaldwerk op om reg te maak vir ’n blitsige vlug na die geheime kamer toe. Ek verbrand enige inkriminerende dokumente in die steenkoolkaggel wat al so lank leeg staan. Die kat kom agter daar is spanning in die atmosfeer en gaan lê nors onder die buffet. Toe gaan ek bad, miskien my laaste bad in maande, pak ek vir my ’n “tronksakkie”, net soos Nollie en die ander my geleer het: ’n Bybel, ’n potlood, naald en gare, seep – altans, dit wat ons deesdae seep noem – ’n tandeborsel en
’n kam. Ek trek my warmste klere aan, asook ’n paar stelle onderklere en twee oortrektruie. Net voor drie-uur druk ek vir Pappa en Betsie styf teen my vas en stap deur die vaal slykerigheid na Smedestraat. Die konstabel op diens is ’n ou bekende. Hy kyk na die brief en toe met ’n snaakse uitdrukking op sy gesig na my. “Volg my,” sê hy. Hy klop aan die deur waarop “Hoof” staan. Die man agter die lessenaar het rooigrys hare wat hy vorentoe oor ’n kaal kol op sy kop kam. ’n Radio speel. Die hoof leun vorentoe en draai die radio nie sagter nie, maar harder. “Mej Ten Boom,” sê hy. “Welkom.” “Hoe gaan dit, Meneer?” Die hoof staan agter sy lessenaar op om die deur agter my toe te maak. “Sit gerus,” sê hy. “Ek weet alles van u, weet u. Van u werk.” “Die horlosiemakery bedoel u. U dink waarskynlik meer aan my pa se werk as aan myne.” Die hoof glimlag: “Nee, ek bedoel u ‘ander’ werk.” “O, verwys u dan na my werk met gestremde kinders? Ja, laat ek u meer daarvan vertel…” “Nee, mej Ten Boom,” sê die hoof nog sagter, “ek praat nie van u werk met gestremde kinders nie. Ek praat van ’n heeltemal ander soort werk. Ek wil u inlig dat sommige van ons hier u simpatiekgesind is.” Die hoof glimlag nou breed. Ek glimlag versigtig terug. “Mej Ten Boom,” gaan hy voort, “ek het een versoek.” Die hoof gaan sit op die rand van sy lessenaar en kyk stip na my. Hy praat nog sagter sodat sy stem net-net hoorbaar is. Hy sê hy self werk saam met die ondergrondse beweging, maar ’n nuusdraer in die polisiedepartement lap alle inligting aan die Gestapo uit. “Daar is net een oplossing vir ons en dit is om die
man dood te maak.” ’n Koue rilling gaan langs my ruggraat af. “Watter alternatief het ons?” fluister die hoof. “Ons kan hom nie arresteer nie. Daar is geen tronke behalwe dié wat deur die Duitsers beheer word nie. Maar as ons hom vry laat rondloop, gaan baie ander sterf. Daarom, mej Ten Boom, het ek gewonder of u miskien weet van iemand weet wat hom kan…” “Doodmaak?” “Ja.” Ek leun agteroor. Is dit ’n lokval om my te laat erken daar bestaan ’n ondergrondse groep? Om my name te laat noem? “Meneer,” sê ek uiteindelik toe ek sien die hoof se oë flikker ongeduldig, “ek het nog altyd geglo dit is my taak om lewens te red, nie te vernietig nie. Ek verstaan egter u dilemma en ek het ’n voorstel. Glo u in gebed?” “Glo ons nie almal deesdae in gebed nie?” “Nou kom ons bid dan dat God die hart van dié man sal aanraak sodat hy sal ophou om sy landgenote te verraai.” Daar is ’n lang pouse. Toe knik die hoof. “Dit sal ek baie graag doen.” En net daar in die hart van die polisiestasie, terwyl die radio die jongste nuus van die Duitse opmars uitbasuin, bid ons. Ons bid dat dié Hollander sal besef watter waarde hy in God se oë het, asook die waarde van elke ander mens op aarde. Toe ons klaar gebid het, staan die hoof op. “Dankie, mej Ten Boom.” Hy skud my hand. “Weereens, baie dankie. Ek weet nou dit was verkeerd om u te vra.” Hy hou vir my die deur oop. Met my “tronksak” steeds in my hande vasgeklem loop ek deur die portaal en om die hoek na die Beje. Bo drom almal om my saam. Hulle wil alles weet, maar ek vertel hulle nie. Nie
alles nie. Ek wil nie hê Pappa en Betsie moet weet ons is gevra om dood te maak nie. Dit sal net ’n onnodige las vir hulle wees om te dra.
Die voorval met die polisiehoof behoort ons te bemoedig, besef ek later. Dit is duidelik dat ons vriende in hoë posisies het. Maar, om die waarheid te sê, het dit die teenoorgestelde uitwerking op ons. Dit is net nog ’n illustrasie van die feit dat ons geheim glad nie ’n geheim is nie. Die hele Haarlem weet skynbaar waarmee ons besig is. Ons weet ons behoort die werk te laat vaar, maar hoe kan ons? Wie sal dan die netwerk van voorraad en inligting wat so belangrik vir die veiligheid van honderde mense is aan die gang hou? As iemand ’n skuilplek moet verlaat, iets wat die hele tyd gebeur, wie sal die verskuiwing na ’n nuwe adres reël? Ons moet bloot aanhou, al weet ons ons sal ’n ramp nie meer lank kan vermy nie. Inderdaad tref dit vir Jop, die sewentienjarige vakleerling wat ’n veilige tuiste by die Beje gesoek het. Laat een middag, naby die einde van Januarie 1944, stap Rolf baie stadig by die werkswinkel in. Hy kyk na Jop. Ek knik. Jop is deel van alles wat in dié huis aangaan. “Daar is ’n “ondergrondse” huis in Ede waar daar vanaand ’n klopjag gaan plaasvind. Het jy iemand wat kan gaan?” Ek het niemand nie. Nie ’n enkele koerier of leier nie. “Ek sal gaan,” sê Jop. Ek maak my mond oop om hom te herinner dat hy geen ondervinding het nie, dat hy baie maklik in die straat gevange geneem en na die fabrieke gestuur kan word. Toe dink ek aan die niksvermoedende mense van Ede. En aan ons klerekas vol meisieserpe en rokke… “Gou, seun,” sê Rolf. “Jy moet dadelik gaan.” Hy gee vir Jop die besonderhede en verdwyn so stil soos hy daar opgedaag het. Ná ’n paar oomblikke verskyn Jop weer, ’n oulike brunet in ’n lang jas, ’n
kopdoek en hande in ’n pelsmof versteek. Het die seun ’n voorgevoel? Tot my verbasing draai hy om en soen my. Jop is veronderstel om terug te wees voor die aandklokreël. Sewe-uur kom en sewe-uur gaan. Dalk is hy net vertraag. Miskien kom hy eers môreoggend terug. Vroeg die volgende oggend kry ons ’n besoeker, maar dis nie Jop nie. Die oomblik toe Rolf by die deur instap, weet ek hy bring slegte nuus. “Dis Jop, nè?” “Ja.” “Wat het gebeur?” Rolf het die storie by die sersant op nagdiens gehoor. Toe Jop by die adres in Ede aankom, was die Gestapo reeds daar. Jop het die klokkie gelui. Die deur het oopgegaan. Die SD-man het gemaak of hy die huiseienaar is en Jop ingenooi. “Corrie,” sê Rolf, “ons moet aanvaar die Gestapo sal inligting uit Jop kry. Hulle het hom reeds Amsterdam toe geneem. Hoe lank sal hy kan stilbly?” Weer bespreek ons die vraag of ons nie maar die werk moet staak nie. Weer ontdek ons ons sal nie kan nie. Daardie nag bid ek en Pappa en Betsie lank ná die ander bed toe is. Ten spyte daarvan dat die waagstuk elke dag groter word, weet ons ons het geen keuse as om voort te gaan nie. Ons leef in ’n bose tyd; ons kan nie daarvan wegvlug nie. Miskien is dit eers wanneer mense hul bes doen en misluk dat God se krag vry sal wees om te werk.
9
Die klopjag
Ek hoor iemand in my kamer en maak my oë moeitevol oop. Ek sien vir Eusie wat sy beddegoed en slaapklere opdra na die geheime kamer toe. Agter hom volg Mary en Thea met hulle bondels. Ek maak my oë weer toe. Dit is 28 Februarie 1944. Ek lê al twee dae plat met griep. Iemand klop aanmekaar in my kop en my hele lyf is aan die brand. Elke geluidjie, Mary se asem wat fluit, die geskraap van die geheime paneel, maak dat ek wil gil. Ek hoor Henk en Meta opkom, en dan Eusie se lag toe hy die daggoed vir hulle deur die lae deurtjie aangee. Loop weg, almal van julle! Los my alleen! Ek byt op my lip om te keer dat ek dit hardop sê. Uiteindelik vat hulle hulle klere en besittings, streep by my kamer uit en maak die deur agter hulle toe. Waar is Leendert? Hoekom het hy nie boontoe gekom nie? Toe onthou ek hy is vir ’n paar dae weg om elektriese alarmstelsels soos ons s’n in verskeie van ons gasheerhuise te installeer. Ek sink stadig weg in ’n koorsagtige slaap. Toe ek my weer kom kry, staan Betsie met ’n stomende koppie kruietee in haar hand aan die voet van my bed. “Ek is jammer om jou wakker te maak, Corrie, maar daar is ’n man onder in die winkel wat daarop aandring dat hy met jou wil praat, net met jou.” “Wie is hy?” “Hy sê hy kom van Ermelo af. Ek het hom nog nooit gesien nie.” Ek sit bewerig regop. “Als reg. Ek moet in elk geval opstaan. Môre kom die
nuwe rantsoenkaarte.” Ek drink klein slukkies van die stomende tee en staan dan met moeite regop. Reg langs my bed lê my tronksak, gepak en gereed sedert die dag dat die polisiehoof my ontbied het. Eintlik het ek nog ’n paar dinge bygevoeg. Behalwe die Bybel, klere en toiletware, is daar nou ook vitamienpille, aspirien, ysterpille vir Betsie se bloedarmoede en nog ’n paar goed. Dit het vir my ’n soort talisman, ’n beskerming teen die verskrikking van die tronk, geword. Ek trek stadig aan en stap by my kamer uit. Die huis draai al in die rondte, voel dit vir my. Ek hou aan die reling vas en kruip byna ondertoe. By die deur van tannie Jans se kamers is ek verbaas om stemme te hoor. Ek kyk in. Natuurlik! Ek het vergeet. Dis Woensdag. Die mense begin vir Willem se weeklikse biduur bymekaarkom. Ek sien hoe Nollie “besettingskoffie”, soos ons die brousel van wortels en droë vye noem, vir almal aangee. Peter is, soos gewoonlik, reeds voor die klavier om musiek te maak. Ek stap verder ondertoe, verby die nuwe aankomelinge wat met die trap op stroom. Toe ek met bewerige knieë by die winkel instap, spring ’n mannetjie met vaal hare my tegemoet. “Mej Ten Boom!” “Ja?” Daar is ’n ou Hollandse gesegde wat sê jy kan ’n man takseer volgens die manier waarop hy jou in die oë kyk. Dié man konsentreer iewers tussen my neus en my ken. “Is u hier oor ’n horlosie?” vra ek. “Nee, mej Ten Boom, oor iets baie erger!” Dit lyk of sy oë ’n sirkel om my gesig maak. “My vrou is so pas gearresteer. Ons het Jode weggesteek, u sien. As sy ondervra word, is ons almal se lewe in gevaar.” “Ek weet nie hoe ek kan help nie,” sê ek. “Ek het ses honderd gulde nodig. Daar is ’n konstabel by die polisiestasie in Ermelo wat vir daardie bedrag omgekoop kan word. Ek is ’n arm man, en iemand het vir my gesê u het sekere… kontakte.” “Kontakte?” “Mej Ten Boom, dis ’n saak van lewe en dood! As ek die geld nie dadelik kry nie, word my vrou Amsterdam toe geneem. En dan is dit te laat…” Iets aan die man laat my huiwer. En tog, hoe kan ek hom nié glo nie? Sê nou ek is verkeerd? “Kom oor ’n halfuur terug. Ek sal die geld hê.”
Vir die eerste keer kyk hy my in die oë. “Ek sal dit nooit vergeet nie,” sê hy. Die bedrag is meer as wat ons by die Beje het. Ek stuur vir Toos bank toe met die opdrag om die geld vir die man te gee, maar geen inligting nie. Toe worstel ek weer met die trap op. Tien minute gelede het ek gebrand van die koors, nou bibber ek van die koue. Ek gaan by tannie Jans se kamers in, maar net lank genoeg om ’n aktetas vol papiere op die lessenaar te kry. Met ’n verskoning aan Willem en die ander stap ek op na my kamer toe. Ek trek weer uit en klim in die bed. ’n Rukkie probeer ek op die name en adresse in die aktetas konsentreer. Daar is hierdie maand vyf rantsoenkaarte in Zandvoort nodig. Nie een in Overveen nie. Ons sal vyftien nodig hê in… Die griep dreun deur my kop. Die woorde swem voor my oë. Die aktetas gly uit my hand. Ek raak vas aan die slaap.
In my koorsdroom hou ’n gonser aan met gons. Dit hou net aan en aan en aan. Hoekom hou dit nie op nie? Voete hardloop. Stemme fluister: “Maak gou! Maak gou!” Ek sit meteens penregop. Mense hardloop by my bed verby. Ek draai my kop net betyds om Thea se hakke deur die lae deurtjie te sien verdwyn. Meta is agter haar, en dan Henk. Maar… ek het nie gesê ons hou ’n driloefening vandag nie. Wie op aarde… tensy… tensy dit nie ’n driloefening is nie! Eusie spoed doodsbleek by my verby, sy pyp kletterend in die asbak wat hy in sy bewende hande dra. Uiteindelik dring die besef deur tot in my dowwe brein. Die oomblik van nood het aangebreek. Een, twee, drie mense is reeds in die geheime kamer… vier toe Eusie se swart skoene en skarlakenrooi kouse verdwyn. Mary… waar is Mary? Die bejaarde vrou verskyn in my kamerdeur, haar mond wyd oop soos sy spook om asem te kry. Ek spring uit die bed en trek en stoot haar oor die lengte van die kamer. Net toe ek die glypaneel agter haar toeskuif, bars ’n skraal man met wit hare by my kamer in. Ek herken hom as iemand wat ek by Pickwick ontmoet het, iemand
hoog op in die nasionale ondergrondse beweging. Ek het nie eens besef hy is in die huis nie. Hy duik weg agter Mary aan. Vyf, ses. Ja, dis reg met Leendert wat weg is. Die man se bene verdwyn. Ek laat die paneel toeval en spring terug in die bed. Onder hoor ek deure klap en swaar voetstappe op die trap. Maar dis ’n ander geluid wat my bloed yskoud laat word – die verwurgende raspergeluid van Mary se asemhaling. “Here Jesus,” bid ek. “U het die krag om te genees! Genees Mary nou!” Toe val my oog op die aktetas propvol name en adresse. Ek gryp dit, pluk die skuifpaneel op, smyt die tas in, skuif die paneel af en stoot my tronksakkie daarteen. Ek is net in die bed toe die slaapkamer se deur oopvlieg. “Wat is jou naam?” Ek sit stadig en – hopelik – vakerig regop. “Wat?” “Jou naam?” “Cornelia ten Boom.” Die man is lank en swaar en sy gesig vreemd bleek. Hy dra ’n gewone blou pak. Hy draai om en skreeu met die trap af: “Ons het nog een hierbo, Willemse.” Hy draai terug na my toe. “Staan op. Trek aan!” Toe ek onder die beddegoed uitkruip, trek die man ’n stuk papier uit sy sak en kyk daarna. “So jy is die belhamel.” Hy kyk met nuwe belangstelling na my. “Sê sommer nou vir my waar jy die Jode wegsteek.” “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” Die man lag. “En jy weet seker ook niks van ’n ondergrondse beweging nie, nè? Ons sal sien!” Hy neem nie sy oë van my af weg nie. Ek begin dus maar my klere bo-oor my nagklere aantrek. My ore is gespits vir enige geluid uit die geheime kamer.
“Wys vir my jou dokumente!” Ek trek aan die sakkie wat ek om my nek dra. Toe ek my identifikasiedokument uithaal, val ’n rol note uit. Die man buk vinnig, gryp die geld van die vloer af op en stop dit in sy sak. Hy neem my dokumente en kyk daarna. ’n Oomblik is die kamer doodstil. Mary Itallie se fluitende bors – waarom hoor ek dit nie? Die man smyt die dokumente na my toe terug. “Maak gou!” Maar hy is nie naastenby so haastig soos ek om uit die kamer weg te kom nie. Van haastigheid knoop ek my trui skeef vas en stop my voete in my skoene sonder om hulle vas te maak. Ek wil my tronksak gaan optel… Nee! Dit staan steeds waar ek dit paniekbevange neergegooi het – reg voor die geheime paneel. As ek onder die rak sou inbuk om dit uit te haal terwyl dié man elke beweging dophou, sal ek dalk sy aandag vestig op die heel laaste plek op aarde waar ek dit wil hê. Dis die moeilikste ding wat ek nog ooit gedoen het… om weg te draai en sonder my sak by die kamer uit te stap. Ek strompel met die trap af. My knieë bewe net so veel van die vrees as van die griep. ’n Soldaat in ’n uniform staan voor tannie Jans se kamers. Die deur is toe. Ek wonder of die biduur verby is, of Willem en Nollie en Peter weggekom het. Of is hulle almal nog daar binne? Hoeveel onskuldige mense het dalk nou betrokke geraak? Die man agter my gee my ’n stootjie en ek stap vinniger met die trap af eetkamer toe. Pappa, Betsie en Toos sit op stoele wat teen die muur getrek is. Langs hulle sit drie ondergrondse werkers wat moes opgedaag het nadat ek weer kamer toe is. Op die vloer onder die venster lê die “Alpina”-bordjie. Iemand het daarin geslaag om dit van die vensterbank af te stamp. ’n Tweede Gestapo-agent in gewone kleredrag krap gretig deur ’n hoop silwerriksdaalders en juweliersware wat op die eetkamertafel opgestapel lê. Die goed wat ons in die holte agter die hoekkas weggesteek het! Dit was toe inderdaad die eerste plek waar hulle gesoek het.
“Hier’s die ander een wie se naam op die lys staan,” sê die man wat my ondertoe gebring het. “My inligting sê sy is die leier van die hele spul.” Die man by die tafel, Willemse, kyk vlugtig na my en draai dan terug na die buit voor hom. “Jy weet wat om te doen, Kapteyn.” Kapteyn gryp my aan die elmboog en stoot my voor hom uit met die laaste vyf trappies af tot in die agterkant van die winkel. Net binnekant die deur staan nog ’n soldaat in uniform. Kapteyn stoot my deur die voorste kamer en stamp my dan teen die muur vas. “Waar is die Jode?” “Hier is nie Jode nie.” Die man klap my hard deur die gesig. “Waar steek jy die rantsoenkaarte weg?” “Ek weet nie waarvan…” Kapteyn slaan my weer. Ek steier teen die astronomie-horlosie vas. Voordat ek my balans kan herwin, klap hy my weer, en dan weer en weer en weer. Harde klappe wat my kop agteroor laat ruk. “Waar is die Jode?” Nog ’n klap. “Waar is julle geheime kamer?” Ek proe bloed in my mond. My kop draai, dit suis in my ore… ek besef ek is besig om my bewussyn te verloor. “Here Jesus,” roep ek uit, “beskerm my!” Kapteyn se hand bly hang skielik in die lug. “As jy daardie Naam weer sê, maak ek jou dood!” Maar hy laat sak sy arm tot langs sy sy. “As jy dan nie wil praat nie, sal die maer enetjie wel.”
Ek struikel voor hom die trap op. Hy druk my plat op een van die stoele teen die eetkamermuur. In ’n waas sien ek hoe hy vir Betsie uit die kamer neem. Bokant ons hoor ek hamerhoue en versplinterrende hout. ’n Opgeleide afdeling soekers probeer die geheime kamer vind. Op daardie oomblik lui die deurklokkie onder in die stegie. Maar die bordjie! Het hulle dan nie gesien die “Alpina”-bordjie is weg nie? Ek kyk na die venster en snak na asem. Daar op die vensterbank, met die drie stukke netjies inmekaargepas, staan die houtdriehoek. Te laat sien ek hoe Willemse my aandagtig dophou. “Ek het so gedink!” sê hy. “Dit is ’n teken, nè?” Hy hardloop met die trap af. Bokant ons hou die gehamer en die swaar getrap van stewels op. Ek hoor die steegdeur oopgaan en Willemse se stem, glad en innemend. “Kom gerus binne.” “Het u gehoor?” ’n Vrou se stem. “Hulle het vir oom Herman!” Pickwick? Nie Pickwick nie! “O?” hoor ek Willemse sê. “Wie was saam met hom?” Hy probeer soveel inligting moontlik uit haar kry en neem haar toe in hegtenis. Die vrou se oë knip aanhoudend van vrees en verwarring toe hulle haar by ons op ’n stoel langs die muur neerdruk. Ek herken haar as iemand wat slegs af en toe vir ons boodskappe in die stad afgelewer het. Met angs staar ek na daardie bordjie in die venster wat vir die hele wêreld aankondig alles in die Beje is normaal. Ons huis het nou ’n lokval geword. Hoeveel mense gaan nog in die lokval beland voordat dié dag verby is? En Pickwick! Het hulle regtig vir Pickwick gevang? Kapteyn verskyn met Betsie in die eetkamerdeur. Haar lippe is dik geswel en ’n kneusplek op haar wang word al hoe donkerder. Sy val feitlik op die stoel langs my neer. “O Betsie! Hy het jou seergemaak!” “Ja.” Sy vee aan die bloed op haar lippe. “Ek voel so jammer vir hom.”
Kapteyn swaai om, sy gesig nog bleker as vroeër. “Alle gevangenes bly stil!” skreeu hy. Twee mans kom donderend met die trap af en toe by die eetkamer in. Hulle dra iets tussen hulle. Hulle het die ou radio onder die trap ontdek. “Wetsgehoorsame burgers, nè?” gaan Kapteyn voort. “Jy! Die ou kêrel daar. Ek sien jy glo in die Bybel.” Hy wys met sy duim na die taamlik verslete Boek op die rak. “Sê vir my wat staan daarin oor gehoorsaam aan die staat?” “Vrees God,” haal Pappa aan, “en eer die koningin.” Kapteyn staar hom aan. “Dit staan beslis nie in die Bybel nie.” “Nee,” erken Pappa. “Die Bybel sê: Vrees God, en eer die koning. Maar in ons geval is dit die koningin.” “Dis nóg die koning nóg die koningin!” brul Kapteyn. “Óns is nou die wettige regering en julle almal het die wet oortree.” Die deurklokkie lui. Weer is daar eers die vrae en dan die arrestasie. Die jong man – een van ons werkers – sit skaars op ’n stoel toe die klokkie weer lui. Dit voel vir my ons het nog nooit so baie besoekers op een dag gehad nie. Die eetkamer word stadig maar seker al hoe voller. Ek voel die jammerste vir dié wat maar net kom kuier het. ’n Bejaarde, afgetrede sendeling kom in en sy tande klap op mekaar van vrees. Te oordeel aan die gestamp bokant ons het hulle ten minste nog nie die geheime kamer gekry nie. ’n Nuwe geluid laat my byna regop spring. Die telefoon onder in die portaal lui. “’n Telefoon!” skreeu Willemse. Hy kyk woedend in die vertrek rond, gryp my aan my pols en sleep my omtrent agter hom aan met die trap af. Hy stamp die gehoorbuis teen my oor vas, maar hou sy hand daaroor. “Antwoord!” vorm hy die woord met sy lippe. “Ten Boom se huis en winkel,” sê ek so bot as wat ek kan waag om te wees. Maar die persoon aan die ander kant kom niks agter nie. “Mej Ten Boom, jy is in geweldige gevaar! Hulle het vir Herman Sluring in
hegtenis geneem! Hulle weet alles! Jy moet versigtig wees!” Die vrou babbel aan en aan terwyl die man langs my alles hoor. Sy het skaars afgelui, toe lui die telefoon weer. ’n Man se stem. Weer die boodskap: “Oom Herman is polisiestasie toe geneem. Dit beteken hulle weet alles…” Uiteindelik, toe ek die derde keer formeel en abnormaal bot groet, is daar ’n klik aan die ander kant. Willemse gryp die gehoorbuis uit my hand. “Hallo! Hallo!” skreeu hy. Hy klap op die mikkie teen die muur. Die lyn is doodstil. Hy stoot my terug met die trap op tot by my stoel. “Ons vriende het snuf in die neus gekry,” sê hy vir Kapteyn, “maar ek het genoeg gehoor.” Betsie het skynbaar toestemming gekry om van haar stoel af op te staan. Sy is besig om brood te sny op die buffet. Ek is verbaas toe ek besef dit is reeds tyd vir middagete. Betsie neem die brood in die kamer rond, maar ek skud my kop. Die koors woed weer in my. My keel is seer en my kop klop geweldig. ’n Man verskyn in die deur. “Ons het die hele plek deursoek, Willemse,” sê hy. “As hier ’n geheime kamer is, het die duiwel dit self gebou.” Willemse kyk van Pappa na Betsie en dan na my. “Daar ís ’n geheime kamer,” sê hy onheilspellend sag. “As dit leeg was, sou hulle so gesê het. Goed dan. Ons plaas wagte reg rondom die huis totdat hulle in mummies verander.” In die afgryslik doodse stilte wat volg, is daar ’n ligte drukking op my knieë. Maher Shalal Hashbaz het op my skoot gespring om teen my te skuur. Ek streel oor die blink, swart pels. Wat sal nou van hom word? Ek laat myself nie eens toe om aan die ses mense bo in die huis te dink nie. Dis reeds ’n halfuur vandat die deurklokkie die laaste keer gelui het. Wie ook al my boodskap oor die telefoon verstaan het, het alarm gemaak. Almal weet nou. Niemand sal nou meer in die lokval by die Beje inloop nie. Blykbaar het Willemse tot dieselfde gevolgtrekking gekom, want hy beveel ons kortaf om op te staan en met ons jasse en hoede portaal toe te gaan. Hy hou vir my, Pappa en Betsie tot die heel laaste in die eetkamer. Voordat ons met die trap af gaan, kom die mense uit tannie Jans se kamers. Ek hou my asem op terwyl ek hulle deurkyk. Blykbaar het meeste van dié wat by die biduur was voor die
klopjag reeds vertrek. Maar nie almal nie. Ek sien vir Nollie en agter haar Peter. Heel laaste kom Willem verby. Die hele gesin dus. Pappa, al vier sy kinders en een kleinkind. Kapteyn gee my ’n stamp. “Stap aan.” Pappa haal sy hoed van die kapstok af. Buite die eetkamerdeur gaan staan hy om die gewigte aan die ou Frieslandse horlosie te trek. “Ons moenie die horlosie laat afloop nie,” sê hy. Pappa! Dink jy regtig ons sal by die huis wees teen die tyd dat die ketting afgeloop het? Die sneeu op die strate het gesmelt. Poele vuil water staan oral toe ons deur die stegie tot in Smedestraat loop. Ons loop net ’n minuut, maar teen die tyd dat ons by die dubbeldeur van die polisiestasie instap, klappertand ek van die koue. Ek kyk angstig in die voorportaal rond of ek nie vir Rolf sien nie, of dalk een van die ander wat ons ken, maar tevergeefs. ’n Ekstra afdeling Duitse soldate vul skynbaar nou die gereelde polisiemag aan. Oral is net vreemde gesigte. Ons word in ’n gang af gejaag, deur die swaar metaaldeur waar ek laas vir Harry de Vries gesien het. Aan die eindpunt van dié portaal is ’n groot kamer wat duidelik ’n gimnasium is. Die vensters hoog bo in die mure is met maasdraad toegespan. Ringe en korfbalringe is met tou aan die plafon vasgebind. In die middel van die vertrek staan nou ’n lessenaar en ’n Duitse offisier sit agter die lessenaar op sy stoel. Tuimelmatte is oor ’n gedeelte van die vloer uitgesprei en ek stort op een van hulle neer. Twee uur lank skryf die offisier name en adresse en ander besonderhede neer. Ek tel dié wat saam met ons in hegtenis geneem is: vyf en dertig mense tydens die klopjag op die Beje. Ander mense wat ook in hegtenis geneem is, sit of lê op die matte rond. Ons ken sommige van hulle. Ek kyk of ek nie vir Pickwick kan sien nie, maar daar is geen teken van hom nie. Een van die mans, ook ’n horlosiemaker, lyk baie ontsteld oor wat met ons gebeur het. Hy kom sit langs my en Pappa.
Uiteindelik vertrek die offisier. Vir die heel eerste keer vandat die alarmgonser gezoem het, kan ons weer met mekaar praat. Ek spartel regop. “Gou!” sê ek in my rasperstem. “Ons moet besluit wat ons gaan sê. Die meeste van ons kan slegs die waarheid praat, maar…” My stem sterf in my keel. Vir my griepverwarde brein lyk dit vir my of Peter vir my die verskriklikste frons gee wat ek nog ooit gesien het. “Maar as hulle hoor dat oom Willem vanoggend uit die Ou Testament gepreek het, kan hulle die lewe vir hom moeilik maak,” voltooi Peter my sin. Hy ruk sy kop eenkant toe en ek kom wankelend op my voete om hom te volg. “Tannie Corrie!” sis hy toe ons eenkant in die vertrek gaan staan. “Daardie man, die horlosiemaker… Die Gestapo het hom hier tussen ons gesit om inligting te kry.” Hy streel oor my kop asof ek ’n siek kind is. “Lê maar weer, tannie Corrie. Maar in hemelsnaam, moet net nie praat nie.” Ek word wakker toe die swaar deur van die gimnasium toeslaan. Rolf stap in. “Laat ons stilte in dié plek kry!” skreeu hy. Hy leun oor na Willem en sê iets vir hom wat ek nie kan hoor nie. “Die badkamers is daar agter,” gaan hy in ’n harde stem voort. “Julle kan een vir een gaan, onder bewaking.” Willem kom langs my sit. “Hy sê ons kan enige inkriminerende dokumente in die toilet afspoel as ons dit fyn genoeg opskeur.” Ek voel deur my jas se sakke. Daar is ’n paar stukkies papier en ’n beursie met ’n paar riksdaalders. Ek kyk noukeurig na die een stukkie papier ná die ander en dink hoe ek elkeen in die hof sou verantwoord. Langs die ry toilette aan die buitekant is ’n wasbak met ’n blikbeker daaraan vasgeketting. Dankbaar drink en drink ek – die eerste vloeistof ná die tee wat Betsie daardie oggend vir my gebring het. Teen die aand se kant dra ’n konstabel ’n groot mandjie vol vars, warm broodrolletjies by die gimnasium in. Ek kan myne nie afsluk nie. Net die water smaak vir my lekker, al voel ek baie verleë om weer en weer te vra om buitentoe geneem te word. Toe ek die laaste keer terugkom, is daar ’n groep rondom Pappa wat aandgodsdiens hou. Elke dag van my lewe het ons só afgesluit: die diep, reëlmatige stem, die vaste en gretige vertroue waarmee ons almal aan God se sorg opdra. Die Bybel lê by die huis op sy rak, maar baie van die woorde lê in Pappa se hart bewaar. Dit lyk of sy blou oë sien tot ver anderkant die vol kamer
waarin ons toegesluit is, tot anderkant Haarlem, tot anderkant die aarde self toe hy uit sy geheue aanhaal: “U is my skuilplek en my skild; op u woord wag ek… Steun my dat ek verlos word; dan sal ek altyddeur op u bevele let.” Nie een van ons slaap veel nie. Elke keer dat iemand die vertrek verlaat, moet hy of sy oor tientalle ander klim. Uiteindelik kruip daar lig deur die hoë vensters wat met skerms toegemaak is. Die polisie bring weer rolletjies. Namate die lang oggend voortsleep, sluimer ek in met my rug teen die muur. Dit voel of die ergste pyn nou in my bors is. Omtrent twaalfuur se kant kom soldate die vertrek binne en beveel ons om op te staan. Haastig sukkel ons om ons jasse aan te trek en loop weer in ’n ry deur die koue gange. In Smedestraat druk ’n menigte mense teen die polisieversperrings wat in die straat opgerig is. Toe ek en Betsie daar uitstap met Pappa tussen ons, gaan daar ’n gemompel van afsku op toe die mense sien hoe die “waardige ou heer van Haarlem” tronk toe geneem word. Voor die deur staan ’n groen munisipale bus met soldate op die heel agterste sitplekke. Mense klim in die bus terwyl vriende en familie in die skare huil of maar net woordeloos toekyk. Ek en Betsie neem Pappa se arms vas om hom met die trap af te help, maar skielik kan ons nie roer nie. Steier-steier by ons verby, met ’n soldaat aan elke kant, sonder hoed en sonder jas, loop Pickwick. Sy kaalkop is vol kneusplekke, droë bloed kleef aan die stoppelbaard op sy ken. Hy kyk nie op toe hy tot in die bus gesleep word nie. Ek, Pappa en Betsie druk styf teen mekaar op ’n dubbelsitplek redelik voor in die bus. Deur die venster sien ek vlugtig vir Tine in die skare. Dis een van daardie helder wintersdae wanneer dit lyk of die lug glinster. Dit voel of ’n rilling deur die bus gaan en toe dreun die enjin. Die polisie maak ’n pad tussen die skare oop en ons kruip vorentoe. Met honger oë kyk ek deur die venster. Ek probeer met my oë aan Haarlem vasklou. Ons ry oor die Grote Markt. Die mure van die katedraal gloei in duisend skakerings van grou in die kristallig. Op ’n eienaardige manier voel dit vir my of ek dié oomblik reeds beleef het. Toe onthou ek. Die gesig. Die nag van die besetting. Ek het dit alles gesien. Willem, Nollie, Pickwick, Peter – ons almal wat hier is – wat teen ons wil oor die plein getrek word. Dit was alles in die droom. Ons almal wat Haarlem teen ons sin verlaat,
nie in staat om om te draai nie. Op pad waarheen?
10
Scheveningen
Buite Haarlem kies die bus die pad suidwaarts, al met die kus langs. Regs van ons verrys die lae sandheuwels van die duinwêreld. Soldate staan donker teen die horison afgeëts. Dis baie duidelik dat ons nie Amsterdam toe geneem word nie. Ná twee uur kom ons in Den Haag aan. Die bus hou voor ’n nuwe, funksionele gebou stil. Daar is ’n gefluister dat dit die Gestapo se hoofkwartier vir die hele Holland is. Hulle laat ons almal – behalwe Pickwick wat nie van sy sitplek af kan opstaan nie – in gelid stap tot in ’n groot kamer waar die eindelose neerskryf van name, adresse en beroepe herhaal word. Ek skrik toe ek sien wie sit aan die ander kant van die lang tafel wat oor die hele lengte van die kamer strek – Willemse en Kapteyn. Elke keer wanneer ’n gevangene uit Haarlem die tafel bereik, buk óf Willemse óf Kapteyn vorentoe en praat met ’n man wat agter ’n tikmasjien sit. Dan kletter dit soos hy tik. Skielik val die hoofondervraer se oog op Pappa. “Daardie ou man!” skreeu hy. “Moes hy nou ook in hegtenis geneem word? Jy, ou man!” Willem lei vir Pappa na die tafel toe. Die Gestapo-hoof leun vorentoe. “Ek sou jou graag wou huis toe stuur, Oubaas. Ek sal vandag jou woord aanvaar dat jy geen verdere moeilikheid sal veroorsaak nie.” Ek kan nie Pappa se gesig sien nie, net die fier houding van sy skouers en die ring spierwithare op sy kop. Maar sy antwoord hoor ek duidelik. “As ek vandag huis toe gaan,” sê hy kalm en duidelik, “sal ek môre weer my deur oopmaak vir enigiemand wat klop en hulp soek.”
Die vriendelikheid verlaat die hoof se gesig. “Terug in die ry!” bulder hy. “En maak gou! Hierdie hof sal geen verdere vertragings duld nie!” Maar vir ons lyk dit of vertragings juis die hof se werk is. Terwyl ons teen ’n slakkepas al met die tafel langs beweeg, is daar ’n eindelose herhaling van vrae, eindelose dokumente wat geraadpleeg word, ’n eindelose gekom en gegaan van beamptes. Buite verdof die kort winterdag. Sedert die rolletjies en water van vroeg die oggend het ons nog niks weer geëet of gedrink nie. Voor my in die ry antwoord Betsie vir die twintigste keer vandag: “Ongetroud.” “Hoeveel kinders?” dreun die ondervraer se stem voort. “Ek is ongetroud,” herhaal Betsie. Die man kyk nie eens op van die papiere voor hom nie. “Hoeveel kinders?” snou hy haar toe. “Geen kinders nie,” sê Betsie gelate. Toe die nag begin daal, word ’n vet mannetjie met ’n geel ster verby ons gelei tot in die verste hoek van die vertrek. Die geluid van ’n gestoei laat ons almal opkyk. Die arme man probeer vasklou aan iets in sy hande. “Dis myne!” skreeu hy aanhoudend. “Julle kan dit nie vat nie! Julle kan nie my beursie vat nie!” Wat besiel hom tog! Wat kan geld hom nou help? Maar hy hou aan spook en spartel tot groot genot van die groep mans rondom hom. “Kyk net hier, Jood!” hoor ek een van hulle sê. Hy lig sy gestewelde voet hoog op en skop die man in die waai van sy been. “Dis hoe ons goed van ’n Jood afvat.” Hulle raas vreeslik. Dis al wat ek kan dink terwyl hulle die man aanhoudend skop. Ek gryp aan die tafel vas om te keer dat ek self val terwyl die lawaai voortduur. Wild en onredelik haat ek dit dat die man so geskop word. En ek haat hom omdat hy so hulpeloos is en so seerkry. Uiteindelik hoor ek hoe hulle hom
uitsleep. Skielik staan ek self voor die hoofondervraer. Ek kyk op in Kapteyn se oë, wat net agter die ondervraer staan. “Dié vroumens is die belhamel,” sê hy. Deur die verwarring in my brein besef ek hoe belangrik dit is dat die ander man hom glo. “Wat Kapteyn sê, is waar,” sê ek. “Die ander… hulle weet niks wat gebeur het nie. Dit was alles my…” “Naam?” gaan die ondervraer ongesteurd voort. “Cornelia ten Boom, en ek is die…” “Ouderdom?” “Twee en vyftig. Die res van die mense het niks…” “Beroep?” “Maar ek het julle al tientalle kere gesê!” bars ek wanhopig uit. “Beroep?” herhaal hy. Dis pikdonkernag toe ons uiteindelik uit die gebou gedryf word. Die groen bus is weg. In sy plek staan ’n groot leërvragmotor met ’n seiltent bo-oor gespan. Twee soldate moet vir Pappa help opklim. Van Pickwick is daar geen teken nie. Ek, Pappa en Betsie vind ’n plekkie op die lang, nou bankie wat rondom die vragmotor se bak loop. Die vragmotor het geen vere nie en bokspring deur die bomverflenterde strate van Den Haag. Ek sit my arm agter om Pappa om te keer dat hy teen die kant stamp. Willem, wat naby aan die agterkant staan, fluister vir ons wat hy van die donker stad kan sien. Ons het die onderdorp verlaat en dit lyk of ons weswaarts op pad is, na die voorstad Scheveningen. Dan is dit ons bestemming, die federale tronk wat na dié kusdorp vernoem is.
Die vragmotor ruk tot stilstand en ons hoor die skreeugeluid van yster op yster. Ons ruk nog ’n tree of wat vorentoe en kom dan weer tot stilstand. Agter ons kletter massiewe hekke toe. Ons klim af. Ek sien ons staan in ’n enorme binnehof omring deur ’n hoë baksteenmuur. Die vragmotor het agteruit gery tot teen ’n lang, lae gebou en soldate stamp ons met geweerlope na binne. Ek knip my oë teen die skel wit glans van die helder plafonligte. “Nasen gegen Mauer!” “Neuse teen die muur!” Ek voel ’n stamp van agter en die volgende oomblik kyk ek na die gebarste pleister voor my. Ek draai my oë so ver ek kan, eers links en dan regs. Ek sien vir Willem. Twee plekke van hom af staan Betsie. Langs my aan die ander kant is Toos. Almal staan met hulle gesigte teen die muur, net soos ek. Waar is Pappa? Daar is ’n eindelose gewag terwyl die littekens op die muur voor my oë gesigte word, dan landskappe en diere. Iewers na regs gaan ’n deur oop. “Vrouegevangenes, volg my!” Die matrone se stem klink net so metaalagtig soos die skreeuende deur. Terwyl ek wegstap deur se kant toe, kyk ek vinnig rond op soek na Pappa. Daar is hy! ’n Entjie weg van die muur af, op ’n stoel met ’n regop rugleuning wat een van die wagte waarskynlik vir hom gebring het. Die matrone kies reeds koers na die lang gang wat ek deur die deur kan sien. Maar ek bly agter en kyk wanhopig na Pappa, Willem en Peter… en al ons dapper ondergrondse werkers. “Pappa!” roep ek hard. “Mag God met jou wees!” Sy kop ruk om na my toe. Die skerp oorhoofse lig weerkaats van sy bril af. “En met julle, my dogters,” sê hy. Ek draai om en volg die ander. Agter my klap die deur toe. En met jou, Pappa,
met jou! Pappa, Pappa, wanneer sien ek jou weer? maal die gedagtes deur my. Betsie se hand gly tot in myne. ’n Strook klapperhaarmat lê in die middel van die wye gang af. Ons stap van die klam beton af tot op die mat. “Gevangenes loop langs die kant,” hoor ons die verveelde stem van die wag agter ons. “Gevangenes mag nie op die mat loop nie.” Skuldig stap ons van die bevoorregte pad af. Voor ons in die gang is nog ’n lessenaar en daaragter sit ’n vrou in uniform. Wanneer ’n gevangene daardie punt bereik, gee sy haar naam vir die duisendste keer op hierdie dag en sit enigiets van waarde wat sy by haar het op die lessenaar neer. Ek, Nollie en Betsie maak die bandjies van ons pragtige polshorlosies los. Toe ek myne vir die offisier gee, wys sy na die eenvoudige goue ring wat aan Mamma behoort het. Ek wikkel dit van my vinger af en sit dit saam met my beursie en papiergulde op die tafel neer. Die optog deur die gang duur voort. In die mure weerskante van ons is daar ’n hele rits metaaldeure. Toe die ry vroue gaan staan, steek die matrone ’n sleutel in een van die deure. Ons hoor die dowwe knars van ’n slot wat oopgly en dan die gepiep van skarniere. Die matrone kyk na ’n lys in haar hand en roep die naam uit van ’n vrou wat ek nie eens ken nie, een van dié wat by Willem se biduur was. Is dit moontlik dat dit maar net gister was? Is dit nou eers Donderdagnag? Reeds lyk dit of die gebeure by die Beje in ’n ander leeftyd hoort. Die deur klap toe en die ry beweeg vorentoe. Nog ’n deur gaan oop, nog ’n mens agter die deur. Nie twee mense van Haarlem is in dieselfde sel nie. Een van die heel eerste name wat gelees word, is Betsie s’n. Sy stap by die deur in, maar voordat sy kan omdraai en tot siens sê, klap die deur toe. Twee selle verder verlaat Nollie my. Die metaalagtige toeklap van daardie twee deure spook by my terwyl ons stadig verder vorentoe beur. Die gang vertak en ons draai links, dan regs, dan weer links. ’n Eindelose wêreld van staal en beton. “Ten Boom, Cornelia.”
Nog ’n deur skraap oop. Die sel is lank en smal, skaars wyer as die deur self. ’n Vrou lê op ’n enkelbedjie en drie ander op strooimatrasse. “Gee dié een die bed,” sê die matrone. “Sy is siek.” Net toe die deur toeslaan, ruk ’n hoesaanval deur my bors en keel. “Ons wil nie ’n siek vrou by ons hê nie!” roep iemand uit. Hulle steier regop en so ver moontlik van my af in die nou hokkie. “Ek… ek is so verskriklik jammer…” begin ek, maar ’n ander stem onderbreek myne. “Jy hoef nie te wees nie. Dis nie jou skuld nie. Komaan, Frau Mikes, gee vir haar die bed.” Die jong vrou draai na my toe. “Laat ek jou hoed en jas ophang.” Dankbaar gee ek my hoed vir haar en sy hang dit by ’n ry kledingstukke aan hake teen die muur, maar my jas hou ek om my lyf vas. Die bed is nou leeg en ek loop wankelrig daarheen, probeer hard om nie te nies of asem te haal toe ek by my selmaats verbydruk nie. Ek sink op die nou bedjie neer en verval dadelik in ’n nuwe hoesbui toe ’n wolk versmorende swart stof uit die vuil strooimatras opstyg. Die aanval gaan uiteindelik verby en ek gaan lê. Die suur strooireuk brand in my neusgate. Ek voel elke houtlat deur die dun matras. Ek sal nooit op hierdie bed kan slaap nie, dink ek, maar toe ek weer my oë oopmaak, is dit oggend. Daar is ’n gekletter by die deur. “Die kosklok,” vertel my selmaats vir my. ’n Metaalvierkant in die deur val oop en vorm ’n rakkie. Iemand sit van buite af blikborde met stomende pap daarop neer. “Hier’s ’n nuwe een!” roep Frau Mikes deur die opening. “Ons kry nou vyf porsies!” Nog ’n blikbord word hard op die rak neergeplak. “As jy nie honger is nie, sal ek joune eet,” sê Frau Mikes. Sy kyk gretig na my. Ek tel my bord op, staar na die vaal, waterige pap en gee dit woordeloos vir haar. Sommer gou kom haal hulle weer die borde en die opening in die deur klap toe. Later die oggend kras ’n sleutel in die deur. Die slot skiet hard oop en die deur word net lank genoeg oopgelaat vir die sanitêre emmer om na buite aangegee te
word. Die wasskottel word ook leeggemaak en vol skoon water teruggebring. Die vroue tel hulle strooimatrasse op en gooi dit op ’n hoop in ’n hoek. ’n Vars wolk stof laat my van voor af hoes. Die volgende oomblik daal daar oor die tronksel iets neer wat ek later meer sou vrees as enigiets anders: ’n afgryslike verveling. Eers probeer ek dit verlig deur met die ander te gesels, maar al is hulle so beleef soos mense wat letterlik bo-op mekaar leef enigsins kan wees, ontwyk hulle my vrae. Ek vind nooit regtig iets oor hulle uit nie. Die jong vrou wat die vorige aand met my gepraat het, vind ek wel uit, is ’n barones en slegs sewentien jaar oud. Dié jong meisie stap die hele dag, vanaf die oggend totdat die lig in die aand afgeskakel word, die ses treë deur toe, die ses treë terug, tussen almal op die vloer deur, heen en weer soos ’n dier in ’n hok. Frau Mikes is ’n Oostenryker wat as ’n skoonmaakster in ’n kantoorgebou gewerk het. Sy huil dikwels oor haar kanarie. “Arme klein dingetjie! Wat sal tog van hom word? Hulle sal nooit daaraan dink om vir hom kos te gee nie.” Dit laat my onmiddellik aan ons kat dink. Het Maher Shalal Hashbaz straat toe ontsnap, of vergaan hy van die honger in die verseëlde huis? In my verbeelding sien ek hom waar hy tussen die stoelpote in die eetkamer rondloop en verlang na die skouers waarop hy so graag geloop het. Ek probeer om my gedagtes nie hoër in die huis op te laat beweeg nie. Ek gaan nie met die trap op om te sien of Thea, Mary en Eusie… Nee! Ek kan tog niks vir hulle vanuit dié sel doen nie. God weet hulle is daar. Een van my selmaats is al drie jaar hier in Scheveningen. Sy kan die geratel van die koskar al hoor nog lank voor ons ander dit hoor. Aan die voetstappe in die gang kan sy sê wie daar verbyloop. “Dis die bevoorregte gevangene met die medisyne. Iemand is siek… Dis die vierde keer dat iemand in 326 vir ’n verhoor verbygaan.” Haar wêreld bestaan uit dié nou hokkie en die gang daar buite. Gou begin ek self die wysheid van so ’n eng lewe insien. Ek besef hoekom gevangenes wegskram van vrae oor hulle “wyer” lewe. In die eerste dae van my gevangenskap is ek byna rasend van bekommernis oor Pappa, Betsie, Willem en Pickwick. Kan Pappa sy kos eet? Is Betsie se kombers so dun soos dié een? Maar hierdie gedagtes veroorsaak soveel wanhoop dat ek gou leer om my nie
daaraan oor te gee nie. In ’n poging om my gedagtes op iets anders te vestig, vra ek vir Frau Mikes om my die kaartspeletjie te leer waarmee sy haar uur ná uur besig hou. Sy het die kaarte self gemaak van die vierkante toiletpapier, waarvan ons elkeen elke dag net twee kry. Die hele dag sit sy op die hoek van die bedjie, lê die “kaarte” voor haar neer en tel hulle weer op. Ek leer stadig aangesien ons nooit in die Beje kaart gespeel het nie. Maar noudat ek Solitaire begin snap, wonder ek wat Pappa teen kaarte gehad het. Niks kan tog seker onskuldiger wees as die opeenvolging van prentjies wat klawers, skoppens, diamante en harte genoem word nie… Mettertyd sien ek egter ’n subtiele gevaar raak. Wanneer die spel vlot verloop, is ek opgeruimd. Dis vir my ’n soort teken: Iemand van Haarlem is vrygelaat. Maar wanneer ek verloor… Miskien is iemand siek, of hulle het die mense in die geheime kamer ontdek. Uiteindelik moet ek ophou speel. Ek vind dit in elk geval uiters moeilik om so lank regop te sit. Ek bring my dae al hoe meer soos my nagte deur. Ek rol rond op die dun strooimatras in ’n vergeefse poging om ’n posisie te vind waarin al die seer gelyktydig verlig word. My kop klop aanhoudend, die pyn skiet op en af in my arms, en wanneer ek hoes, is daar bloed. Een oggend rol ek koorsagtig op die bed rond toe die deur oopgaan en die matrone met haar blikstem daar staan. Ek onthou haar van daardie nag, twee weke gelede, toe ek by die sel ingebring is. “Ten Boom, Cornelia.” Ek sukkel tot ek op my voete staan. “Bring jou hoed en jas en kom saam.” Ek kyk na die ander vir ’n aanduiding oor wat ek kan verwag. “Jy gaan buitentoe,” sê ons tronkdeskundige. “As jy jou hoed moet saamneem, gaan jy altyd buitentoe.” My jas het ek reeds aan. Ek haal my hoed van die haak af en stap tot in die gang. Die matrone sluit weer die deur en begin so vinnig stap dat my hart met hamerhoue slaan terwyl ek agter haar aandraf, versigtig om van die kosbare mat af te bly. Ek kyk vol verlange na die toe deure weerskante van ons. Ek kan nie
onthou agter watter deure my susters verdwyn het nie. Uiteindelik stap ons uit tot in die groot, ommuurde binnehof. Die lug! Vir die eerste keer in twee weke sien ek blou lug! Hoe hoog is die wolke, en hoe onbeskryfbaar wit en skoon. Ek onthou skielik hoeveel die lug vir Mamma beteken het. “Maak gou!” snou die matrone my toe. Ek haas my na die blink, swart motor waarlangs sy staan. Sy maak die agterdeur oop en ek klim in. Daar sit reeds twee mense op die agtersitplek, ’n soldaat en ’n vrou met ’n hol, siek, grys gesig. Voor langs die bestuurder sit-lê ’n man wat verskriklik siek lyk. Sy kop hang eienaardig slap op die sitplekleuning agter hom. Toe die motor begin beweeg, tel die vrou ’n bloedbevlekte handdoek op en hoes daarin. Ek verstaan skielik. Ons drie is siek. Miskien gaan ons hospitaal toe. Die massiewe hek van die tronk swaai oop en meteens is ons in die buitewêreld. Die motor rol oor die breë strate van die stad. Ek staar vol verwondering deur die venster. Daar is mense wat stap, na die winkelvensters kyk, stilstaan om met vriende te praat. Was ek werklik net twee weke gelede nog so vry? Die motor hou voor ’n kantoorgebou stil. Die bestuurder en die soldaat moet saam die siek man die drie verdiepings op dra. Ons gaan by ’n wagkamer propvol mense in en gaan sit onder die oplettende oë van die soldaat. Toe byna ’n uur verstryk het, vra ek toestemming om die badkamer te gebruik. Die soldaat praat met die netjiese verpleegster in haar wit uniform wat agter die ontvangstoonbank sit. “Volg my,” sê sy kortaf. Sy lei my deur ’n klein portaal, stap dan saam met my by die badkamer in en maak die deur toe. “Gou! Is daar enige manier waarop ek jou kan help?” Ek kyk na haar met oë wat knip-knip. “Ja! O ja! ’n Bybel. Kan jy vir my ’n Bybel kry? En… naald en gare… ’n tandeborsel… en seep.” Sy byt haar onderlip vas, vol twyfel. “So baie pasiënte vandag… En die soldaat. Maar ek sal doen wat ek kan.” Dan is sy weg. Haar goedheid skyn skielik soos ’n lig in die kamertjie, net so helder soos die wit
teëls en blink krane. Hoop en moed bruis deur my toe ek die vuilheid van my nek en gesig af skrop. ’n Man se stem klink op by die deur. “Komaan! Jy was nou lank genoeg daarbinne!” Haastig spoel ek die seep af en volg die soldaat terug na die wagkamer. Die verpleegster is terug agter haar toonbank, koel en bekwaam soos voorheen. Sy kyk nie eens op nie. Ek wag nog baie lank voordat my naam uiteindelik uitgeroep word. Die dokter vra my om te hoes, neem my koors en bloeddruk, gebruik sy gehoorpyp en kondig aan dat ek mantelvliesontsteking met afskeiding het, pretuberkulêr. Hy skryf iets op ’n vel papier neer. Dan, terwyl sy een hand op die deurknop rus, lê hy die ander hand vlugtig op my skouer. “Ek hoop,” sê hy, “dat ek jou ’n guns bewys met hierdie diagnose.” In die wagkamer is die soldaat op sy voete, gereed vir my. Toe ek deur die wagkamer stap, staan die verpleegster flink op en skuur vinnig by my verby. In my hand voel ek ’n bonkige pakkie in papier toegedraai. Ek laat dit by my jas se sak ingly en volg die soldaat met die trap af. Die ander vrou is reeds in die motor. Die siek man verskyn nie weer nie. Tydens die hele rit dwaal my hand na die voorwerp in my sak. Ek voel weer en weer aan die vorm. “Vader, dis so klein, maar dit kan tog wees. Laat dit tog ’n Bybel wees!” Die hoë mure doem voor ons op en die hek knars agter ons toe. Uiteindelik, aan die einde van die lang weergalmende gange, bereik ek my sel. Ek haal die pakkie vinnig uit my sak. My selmaats drom om my saam toe ek die koerantpapier met bewende vingers oopvou. Selfs die barones hou op stap om te kyk. Toe die twee koekies vooroorlogse seep voor ons verskyn, klap Frau Mikes haar hand voor haar mond om haar opgewonde gil te demp. Geen tandeborsel of naalde nie, maar wel ’n ongehoorde rykdom, ’n pakkie haakspelde. En die wonderlikste van alles, wel nie ’n hele Bybel nie, maar vier boekies, die vier Evangelies. Ek deel die seep en spelde gelykop tussen ons vyf, maar al bied ek aan om ook die Evangelies met hulle te deel, weier hulle.
“As hulle jou met daardie goed vang,” sê die goed ingeligte vrou, “kry jy dubbel jou vonnis en boonop kalte kost.” Kalte kost – net die rantsoenbrood, sonder die bord warm kos. Dit is die straf waarmee ons altyd gedreig word. As ons te veel lawaai maak, gaan ons kalte kost kry. As ons te stadig met die emmer is, gaan ons kalte kost kry. Maar selfs kalte kost sou te min wees om te betaal vir dié kosbare boeke, dink ek toe ek my seer liggaam op die vuil strooi uitstrek.
Twee aande later, naby aan die tyd wanneer die elektriese lig gewoonlik uitgedoof word, gaan die seldeur oop en ’n wag stap in. “Ten Boom, Cornelia,” sê sy kortaf. “Kry jou goed.” Ek staar na haar en ’n waansinnige hoop begin in my posvat. “Jy bedoel…” “Stilte! Geen woord nie!” Dit kos my nie lank om my “goed” bymekaar te kry nie: my hoed en ’n onderhemp wat besig is om droog te word ná ’n vergeefse poging om dit skoon te kry in die vuil water in die skottel. My jas met die kosbare inhoud in sy sakke was nog nooit weer van my lyf af nie. Waarom hierdie streng stilte? wonder ek. Hoekom mag ek nie eens vir my selmaats tot siens sê nie? Sou dit nou so vreeslik verkeerd wees van ’n wag om af en toe te glimlag, of ’n paar verduidelikende woorde te sê? Ek groet die ander met my oë en volg die stywe rug van die vrou tot in die gang. Sy gaan staan net lank genoeg om die deur te sluit en marsjeer dan in die gang af. Maar… verkeerde kant toe! Ons is nie op pad na die uitgang nie. Ons stap dieper by die doolhof van tronkgangetjies in. Steeds sonder ’n enkele woord gaan staan sy voor ’n deur en sluit dit oop. Ek stap in. Die deur klap agter my toe en die sleutel draai in die slot. Die sel lyk presies soos die een wat ek so pas verlaat het, ses treë lank, twee treë wyd, met ’n enkele bedjie diep agter teen die muur. Maar dié sel is leeg. Terwyl die wag se voetstappe in die gang wegsterf, leun ek teen die koue metaaldeur. Alleen. Alleen agter hierdie mure… Ek moenie toelaat dat my gedagtes met my op hol gaan nie; ek moet my baie
volwasse gedra en prakties wees. Ses treë. Sit op die bed. Dié een ruik selfs erger as die vorige een. Die strooi is besig om te vrot. Ek steek my hand na die kombers toe uit. Iemand het daarop opgegooi. Ek stoot dit vinnig weg, maar te laat. Ek storm op die emmer af en leun bewerig daaroor. Op daardie oomblik gaan die lig teen die plafon dood. Ek voel-voel my pad na die bed toe en gaan sit ineengekrimp in die donker. Ek byt op my tande om nie naar te word van die stank van die beddegoed nie. Ek vou my jas stywer om my. Die sel is bitter koud en die wind slaan teen die muur vas. Dis seker naby aan die buitekant van die tronk, want ons het die wind nooit so in die ander sel hoor huil nie. Wat het ek gedoen om só van ander mense geskei te word? Het hulle uitgevind van die verpleegster in die dokter se kantoor? Of is een van die gevangenes van Haarlem ondervra en het die waarheid oor ons groep bekend geraak? Dalk is my vonnis eensame aanhouding vir jare en jare… Die volgende oggend is my koors erger. Ek kan nie eens lank genoeg staan om my kos van die rakkie in die deur te kry nie. Na die aand se kant toe val die rakkie weer oop en ’n stuk growwe tronkbrood verskyn. Teen dié tyd is ek desperaat om kos in die hande te kry, maar nog minder as ooit in staat om te loop. Wie ook al buite is, moet besef daar is ’n probleem. ’n Hand neem die brood vas en smyt dit na my kant toe. Dit beland op die vloer langs die bed. Ek gryp daarna en begin gulsig daaraan kou. ’n Paar dae lank, terwyl my koors hewig woed, word my aandete op dié manier afgelewer. Soggens gaan die deur skreeuend oop en ’n vrou met ’n blou rok dra die bord warm pap na my bed toe. Ek is uitgehonger om ’n ander mens se gesig te sien, net so uitgehonger soos vir kos. Ek probeer met my droë, skor stem praat, maar die vrou, blykbaar ’n medegevangene, skud net haar kop en kyk bang na die deur se kant toe. Die deur gaan ook oop om die bevoorregte gevangene met die medisyne in te laat. Hy gee my ’n dosis brandende geel vloeistof uit ’n baie vuil bottel. Die eerste keer toe hy by die sel inkom, gryp ek hom aan die mou. “Asseblief!” sê ek hees. “Het jy ’n tagtigjarige man gesien? Met wit hare en ’n lang baard? Casper ten Boom. Jy moes seker al vir hom medisyne geneem het.” Die man ruk hom los. “Ek weet nie! Ek weet niks nie!”
Die seldeur klap hard teen die muur vas en in die opening staan die wag. “Gevangenes wat alleen toegesluit is, mag nie praat nie! As jy nog net een woord vir die gevangenes aan diens sê, is dit kalte kost vir jou vir die res van jou vonnis.” Die deur klap hard agter die twee toe. Dieselfde bevoorregte gevangene moet ook my koors meet elke keer wanneer hy na my toe kom. Ek moet my hemp uittrek en die koorspen tussen my arm en die kant van my lyf vasknyp. Vir my lyk dit nie ’n akkurate manier om koors te meet nie, maar aan die einde van die week roep ’n geïrriteerde stem by die kosopening: “Staan op en kom vat self jou kos! Jou koors is weg. Jy word nie meer bedien nie.” Ek is seker my koors is nie weg nie, maar daar is geen ander uitweg nie. Ek kruip bewend deur toe vir my bord kos. Wanneer ek dit leeg terugsit, gaan lê ek weer op die stinkende strooi en staal myself vir die geskreeu wat ek weet gaan kom. “Kyk na haar hoogheid! Al weer terug in die bed. Gaan jy dan die ganse dag daar lê?” Waarom dit so ’n misdaad is om te lê, kan ek nie begryp nie. Ook nie wat ek veronderstel is om te doen as ek sou opstaan nie… Noudat ek stoksielalleen is, is my gedagtes ’n nog groter probleem as ooit vantevore. Ek kan nie eens meer familie en vriende se name in my gebede noem nie, so groot is die vrees oor hulle en die verlange na hulle elkeen. “Dié wat ek liefhet, o Here,” sê ek, “U ken hulle. U sien hulle. Seën hulle almal!” Gedagtes is vyande. My tronksak… hoeveel keer maak ek dit nie in my gedagtes oop nie. Ek voel met my vingers deur alles wat ek agtergelaat het. ’n Skoon hemp. Aspirien. ’n Hele bottel vol. Tandepasta met ’n pepermentsmaak… Dan kry ek ’n houvas op myself. Hoe belaglik is sulke gedagtes tog! As ek dit weer moes doen, sou ek werklik daardie persoonlike geriewe bo menselewens kon plaas? Natuurlik nie. Maar in die donker nagte, wanneer die wind huil en die koors klop, sleep ek daardie sak uit ’n donker hoekie van my brein en vroetel weer daardeur. ’n Handdoek om op dié krapperige strooi neer te sit. Aspirien…
Die nuwe sel is op slegs een manier beter as die oue. Dit het ’n venster. Sewe dwars ystertralies en vier van bo na onder. Dis te hoog in die muur om deur die
venster te kan kyk, maar deur die agt en twintig vierkantjies kan ek darem die lug sien. Die hele dag lank hou ek my oë op die stukkie hemel gerig. Soms beweeg die wolke voor die vierkante verby, wit wolke, pienk wolke, wolke met ’n goue randjie… En wanneer die wind van die westekant af waai, kan ek die see hoor. Die heel beste is dat ’n straaltjie geruite sonlig byna ’n uur lank elke dag by die donker kamertjie instroom. Namate die son al hoe hoër styg, word dié uur geleidelik langer. En toe die weer warmer en ek sterker word, staan ek elke dag op om die sonlig op my gesig en bors te laat val. Ek beweeg met die muur langs om in die bewegende straal te bly. Later klim ek op die bed en staan op my tone in die laaste strepie sonlig. Hoe beter ek word, hoe meer kan ek my oë gebruik. Tot dusver het ek myself aan die gang gehou deur een versie op ’n slag te lees. Maar nou verslind ek soos ’n uitgehongerde mens ’n hele Evangelie op ’n slag. Ek sien die hele wonderbaarlike verhaal van saligheid en verlossing. Terwyl ek lees, word ’n ongelooflike gedagte in my gebore. Is dit moontlik dat al hierdie dinge, alles wat so tevergeefs en so onnodig lyk – hierdie oorlog, die Scheveningen-tronk, hierdie sel – geensins onvoorsien of per ongeluk is nie? Kan dit deel van die verhaal wees wat heel eerste in die Evangelies geopenbaar is? Is Jesus dan nie – en hier lees ek nog aandagtiger – net so volkome en net so sonder twyfel verslaan soos ons groepie met ons plannetjies nie? As die Evangelieverhale werklik die werk van God se hande is, was ons neerlaag maar slegs die begin. Ek kyk in die kaal sel rond en wonder watter oorwinning hoegenaamd uit so ’n plek kan kom. Die tronkdeskundige in my heel eerste sel het my geleer om ’n soort mes te maak deur ’n balein op die growwe sementvloer te slyp. Dit lyk vir my belangrik om nie alle begrip van tyd te verloor nie. Ek krap daarom met die skerpgemaakte balein ’n kalender teen die muur agter die bed uit. Terwyl elke lang, saai dag einde se kant toe staan, trek ek nog ’n vierkant dood. Ek maak ook ’n lys van spesiale datums onder die kalender: 28 Februarie 1944 In hegtenis geneem
29 Februarie 1944 Na Scheveningen 16 Maart 1944 Begin van eensame aanhouding
En nou ’n nuwe datum:
15 April 1944 My verjaarsdag in die tronk
’n Verjaarsdag beteken ’n partytjie, maar ek soek tevergeefs na ’n voorwerp wat net ’n bietjie kleurvol en vrolik lyk. In die ander sel was daar ten minste stukkies helder klere: die barones se rooi hoed, Frau Mikes se geel hemp. Hoe spyt is ek nie nou oor my swak kleresmaak nie. Ten minste kan ek ’n liedjie by my partytjie sing. Ek kies een oor die Bruid van Haarlem-boom wat nou vol in die blom behoort te staan. Die kinderliedjie bring alles so naby aan my: die oorlaaide blomtakke, die blomblare wat op die grond neerreën soos sneeu op ’n steensypaadjie… “Stil daar binne!” ’n Sarsie houe reën op my deur. “Afgesonderde gevangenes moet doodstil bly!” Ek gaan sit op die bed, maak die Evangelie van Johannes oop en lees tot die pyn uit my hart verdwyn.
Twee dae ná my verjaarsdag word ek vir die eerste keer na die groot stortkamer geneem. Elke geluid weergalm in die badkamer. ’n Nors wag loop langs my. Die diep frons op haar gesig probeer my belet om enige vreugde in dié uitstappie te vind. Maar ná so baie weke in afsondering kan niks die wonder om in die breë gang af te loop uitdoof nie. By die deur van die stortkamer staan ’n hele paar vroue en wag. Selfs in die streng stilte bring dié menslike nabyheid vir my vreugde en krag. Ek kyk na die
gesigte van dié wat uitkom, maar nie Betsie, Nollie of enigiemand anders uit Haarlem is daar nie. Tog, dink ek, hierdie vroue is almal my susters. Hoe ryk is iemand wat selfs net mense se gesigte kan sien! Die stort is heerlik. Die warm, skoon water oor my smerige vel; strome water deur my gekoekte hare. Ek stap met ’n nuwe voorneme terug na my sel: Wanneer ek weer toegelaat word om te stort, sal ek drie van my Evangelies saam met my neem. Eensame aanhouding leer my dat dit onmoontlik is om alleen ryk te wees. Ek is egter nie baie lank meer alleen nie. In my afgesonderde sel kom kuier daar ’n besige swartmiertjie. Een oggend toe ek my emmer deur toe dra, trap ek amper op hom. Eers toe besef ek watter eer my gegun word. Ek buk af en bewonder die wonderlike ontwerp van sy bene en lyfie. Ek vra hom om verskoning omdat ek so vreeslik groot is en belowe om nie weer onnadenkend rond te stap nie. Ná ’n rukkie verdwyn hy deur ’n kraak in die vloer. Toe my brood later die aand kom, strooi ek ’n paar krummels rond. Tot my vreugde kom die miertjie sommer dadelik uit. Hy tel ’n yslike krummel op, spartel daarmee in die gat af en kom haal nog. Dit is die begin van ’n verhouding. Buiten die daaglikse kuiertjie van die son, het ek nou ook die geselskap van hierdie dapper en mooi kuiergas. Gou is daar sommer ’n klein kolonie. Wanneer ek klere in die skottel uitwas of my tuisgemaakte mes se punt slyp wanneer die miere uitkom, hou ek dadelik daarmee op sodat ek my volle aandag aan hulle kan gee. Dit is vir my ondenkbaar om twee aktiwiteite gelyktydig te doen.
Een aand, terwyl ek nog ’n lang, lang dag op my kalender doodtrek, hoor ek ’n geskreeu ver in die gang af. Heelwat nader antwoord ’n stem op die geroep. Skielik is daar lawaaierige stemme uit alle oorde. Hoe ongewoon vir die gevangenes om so ’n bohaai op te skop. Waar is die wagte? Ek verstaan nie wat gebeur nie. Die rakkie in my deur is nie toegemaak sedert die brood twee uur gelede afgelewer is nie. Ek druk my oor daarteen en luister, maar kan niks uit die
rumoer buite my sel wys word nie. Name word van sel tot sel aangestuur. Ek hoor mense sing; ander slaan teen die deure. Die wagte moet almal weg wees! “Asseblief! Laat ons almal stil wees!” pleit ’n stem naby my. “Kom ons gebruik dié tyd voordat hulle terugkom.” “Wat is aan die gang?” skreeu ek deur die opening in my deur. “Waar is die wagte?” “By die partytjie,” antwoord dieselfde stem my. “Dis Hitler se verjaarsdag.” Dan moet dit hulle eie name wees wat die mense in die gang af uitroep. Hier is ons kans om te sê wie ons is en om inligting te kry. “Ek is Corrie ten Boom!” roep ek deur die opening in die deur. “My hele gesin is hier iewers. Het enigiemand vir Casper ten Boom gesien? Of vir Betsie ten Boom? Nollie van Woerden? Willem ten Boom?” Ek roep die name uit totdat ek hees is, en ek hoor hoe dit in die gang af van mond tot mond herhaal word. Ek stuur ook ander name aan, na links en na regs, terwyl ons ’n soort stelsel probeer uitwerk. Ná ’n rukkie begin antwoorde deursypel. “Mev Van der Eist is in sel 228… Pietje se arm is baie beter…” Sommige van die boodskappe kan ek byna nie verduur om aan te stuur nie. “Die verhoor het baie sleg afgeloop. Hy sit in die sel sonder om te praat.” “Aan my man, Joost… Ons baba het verlede week gesterf…” Saam met die persoonlike boodskappe kom ook gerugte oor die buitewêreld, die een meer optimisties as die vorige. “Daar is ’n revolusie in Duitsland aan die gang.” “Die Geallieerdes het Europa binnegeval.” “Die oorlog kan nie meer langer as drie weke duur nie.” Uiteindelik begin ’n paar van die name wat ek uitgeroep het na my toe terugkeer. “Betsie ten Boom is in sel 312. Sy sê ek moet vir jou sê God is goed.”
O, dis Betsie! In elke opsig! “Nollie van Woerden was in sel 318, maar sy is meer as ’n maand gelede ontslaan.” Ontslaan? Dankie, Here! Ook Toos is vrygelaat. Nuus uit die mansafdeling duur langer om by my uit te kom, maar toe ek die nuus ontvang, word my hart al hoe ligter. Peter van Woerden. Vrygelaat. Herman Sluring. Vrygelaat. Willem ten Boom. Vrygelaat. Sover ek kan agterkom, is almal wat tydens die klopjag op die Beje gevange geneem is, vrygelaat. Behalwe ek en Betsie. Net van Pappa hoor ek niks, al roep ek sy naam oor en oor. Niemand het hom skynbaar gesien nie. Niemand weet iets van hom nie…
Ongeveer ’n week later gaan my seldeur oop en ’n bevoorregte gevangene gooi ’n pakkie in vaal papier toegedraai op die vloer neer. Ek tel dit op, weeg dit in my hand, draai dit om en om. Die papier is oopgeskeur en baie onverskillig weer toegebind, maar dit keer my nie om Nollie se liefde te ervaar nie. Ek sit op die bed en maak die pakkie oop. Die ligblou geborduurde oortrektrui! So bekend en so welkom. Terwyl ek dit aantrek, is dit asof ek Nollie se arms om my skouers voel. Binne-in die pakkie is ook koekies en vitamienpille, ’n naald en gare en ’n helderrooi handdoek. Hoe goed verstaan Nollie tog nie die honger na kleur in ’n vaal tronksel nie! Sy het selfs die koekies in vrolike rooi sellofaan toegedraai. Ek byt net mooi in die eerste koekie toe die inspirasie my tref. Ek sleep die bed van die muur af weg tot onder die kaal gloeilamp teen die plafon. Toe klim ek op die bed en maak ’n lampskerm van die sellofaanpapier. ’n Vrolike rooi lig spoel oor my troostelose kamertjie.
Ek is net besig om die koekies in die vaal papier toe te draai toe my oë val op die adres wat in Nollie se sorgvuldige handskrif geskryf is. Die letters hang skeef oor na die posseël se kant toe. Maar Nollie skryf mos nie so skuins nie… Die seël! Het ek nie eenkeer ’n boodskap onder ’n seël in die Beje ontvang nie? Was dit nie in potlood op die vierkantjie onder die seël geskryf nie? Ek lag vir my ooraktiewe verbeelding, maar maak nogtans die papier in die skottel water nat en wikkel die seël stadig en versigtig los. Woorde! Daar is beslis iets geskryf, maar so klein dat ek weer op die bed moet klim en die papier naby aan die bedekte gloeilamp moet hou. “Al die horlosies in jou kabinet is veilig.” Veilig… Eusie, Henk en Mary… Hulle het uit die geheime kamer gekom! Hulle het ontsnap! Hulle is vry! Ek huil dat my liggaam ruk. Toe ek die swaar voetstappe in die gang af hoor kom, spring ek haastig van die bed af en stoot dit terug teen die muur. Die rakkie in die deur kletter oop. “Watse gedoente is hier binne aan die gang?” “Dis niks! Ek… ek sal nie weer nie.” Die rakkie kletter toe. Hoe op aarde het hulle dit reggekry? Hoe het hulle by die soldate verbygekom? “Dit maak nie saak nie, liewe Here! U was daar, en dis al wat saak maak…”
Die seldeur gaan oop. ’n Duitse offisier, gevolg deur die hoofmatrone, stap in. My oë gaan honger oor die netjies gestrykte uniform met die rye helderkleurige oorloglinte. “Mej Ten Boom,” begin die offisier in perfekte Hollands, “ek het ’n paar vrae. En ek glo u kan my daarmee help.” Die matrone dra ’n stoeltjie en sy spring vorentoe om dit vir die offisier neer te sit. Ek kan haar maar net aanstaar. Is dié slaafse wese dieselfde een wat met haar
vreesaanjaende stem die verskrikking van die vrouevleuel is? Die offisier gaan sit en wys vir my om op die bed te gaan sit. Daar is iets in sy gebaar wat aan die wêreld buite die tronk behoort. Toe hy ’n sakboekie uithaal en name daaruit begin voorlees, is ek skielik pynlik bewus van my verkreukelde klere en my lang, stukkende vingernaels. Tot my verligting ken ek werklik nie een van die name wat hy voorlees nie. Op daardie oomblik besef ek die wysheid van die alomteenwoordige “mnr Smit”. Die offisier staan op. “Sal u binnekort gesond genoeg voel vir u verhoor?” Weer raak ek van die doodgewoon menslike optrede bewus. “Ja, ek… ek hoop so.” Die offisier stap uit tot in die gang met die matrone wat met die stoel agter hom aan trippel.
Dit is 3 Mei 1944. Ek sit op my bed en naaldwerk doen. Sedert Nollie se pakkie afgelewer is, het ek iets wonderliks om my mee besig te hou. Een vir een trek ek die drade uit die rooi handdoek en borduur helder figure en vorms daarmee op die nagklere wat ek eers maar baie onlangs nie meer onder my klere dra nie. ’n Venster met plooigordyne. ’n Blom met ’n onmoontlike getal blomblare en blare. Ek begin net met die kop van ’n kat op die regtersak toe die kosrak in die deur met een beweging oop- en toeklap. Op die vloer van my sel lê ’n brief. Ek gooi die nagklere neer en spring op. Dis Nollie se handskrif. Waarom bewe my hand so? wonder ek toe ek die brief optel. Die sensors het die brief oopgemaak en teruggehou. Die posstempel is al meer as ’n week oud. Maar dis ’n brief, ’n brief van die huis af. Die heel eerste een! Waarom dan die skielike vrees? Ek vou die papier oop. “Corrie, kan jy baie dapper wees?” Nee! Nee, ek kan nie dapper wees nie! Ek dwing my oë om verder te lees. “Ek het nuus wat vir my baie moeilik is om te skryf. Pappa het net tien dae bly leef nadat hy in hegtenis geneem is. Hy is nou by die Here…”
Ek staan so lank met die brief in my hande dat die daaglikse streep sonlig die sel binnekom en daarop val. Pappa… Pappa… die brief blink in my blokkieslig terwyl ek die res lees. Nollie het geen verdere besonderhede nie, nie eens oor waar hy begrawe is nie. Voetstappe gaan op die klapperhaarmat verby. Ek hardloop deur toe en druk my gesig teen die toe kosrak. “Asseblief! O, asseblief!” Die voetstappe raak stil. Die rakkie val oop. “Wat makeer?” “Asseblief! Ek het slegte nuus gekry. Asseblief, moenie weggaan nie!” “Wag ’n bietjie.” Die voetstappe beweeg weg en keer dan terug met ’n geklingel van sleutels. Die seldeur gaan oop. “Hier.” Die jong vrou gee vir my ’n pil en ’n glas water. “Dis ’n kalmeermiddel.” “Die brief het nou net gekom,” verduidelik ek. “My pa… dit sê my pa is dood.” Die meisie staar na my. “Jou pa!” sê sy verbaas. Ek besef hoe vreeslik oud en vervalle ek vir haar moet lyk. Sy staan ’n rukkie in die deur, duidelik verleë oor my trane. “Wat ook al gebeur,” sê sy uiteindelik, “jy het alles op jouself gebring deur die wet te oortree.” “Jesus,” fluister ek toe die deur toeslaan en haar voetstappe wegsterf, “hoe dwaas van my om menslike hulp in te roep terwyl U by my is. Om te dink Pappa sien U nou, van aangesig tot aangesig. Om te dink hy en Mamma is weer saam en stap saam deur die goue strate…” Ek sleep die bed van die muur af weg, en onder die kalender krap ek ’n ander datum uit…
9 Maart 1944 Pappa verlos.
11
Die luitenant
Ek stap saam met ’n wag – agter haar en ’n bietjie na regs sodat ek nie op die klapperhaarmat sal trap nie. Ons stap in ’n gang waar ek nog nooit voorheen was nie. ’n Draai na regs, ’n paar trappies af, weer regs… Wat ’n eindelose doolhof is dié tronk tog! Uiteindelik stap ons uit in ’n klein binnehof. ’n Motreëntjie val. Dis ’n grou, koue oggend laat in Mei. Ná drie maande in die tronk word ek vir my eerste verhoor geroep. Vensters met tralies kyk uit hoë geboue op drie sye van die binnehof af. ’n Hoë muur vorm die vierde sy, en teen die muur staan ’n ry hutjies. Dan is dit waar die berugte ondervragings plaasvind, besef ek. Ek haal rukkerig en hard asem toe ek dink aan al die boodskappe wat ek die aand van Hitler se verjaarsdag aangestuur het. “Jesus, U is ook geroep om verhoor te word. Wys vir my wat ek moet doen.” Toe sien ek iets. Wie ook al die vierde hut gebruik of gebruik het, het ’n ry tulpe langs die kant af geplant. Hulle is nou verlep, net lang stamme en vergeelde blare is oor, maar… “Liewe Heer, laat my na die vierde hut gaan!” bid ek. Die wag gaan staan om ’n militêre mantel wat aan die skouer van haar uniform vasgebind is af te haal. Beskerm teen die reën knars sy dan oor die gruispaadjie. Verby die eerste hut… verby die tweede… verby die derde. Sy gaan staan voor die hut met die blombedding en klop aan die deur. “Herein!” roep ’n man se stem. Die wag stoot die deur oop, gee ’n reguitarmsaluut en marsjeer dan knap weg.
Die man dra ’n pistool en daar is baie linte aan sy uniform. Hy haal sy pet af en ek kyk in die gesig van die man met die mooi maniere wat my in my sel besoek het. “Ek is luitenant Rahms,” sê hy en stap na die deur om dit toe te maak. “U bewe! Wag, laat ek die vuur ’n bietjie stook.” Hy maak ’n swart boepensstoof vol uit ’n steenkoolbak. Die toneel lyk vir my amper soos dié van ’n gawe Duitse huiseienaar wat ’n gas onthaal. Sê nou dit alles is ’n subtiele lokval? Die sagte, vriendelike gesindheid… Miskien het hy uitgevind dit werk beter as brutaliteit om die waarheid te trek uit mense wat uitgehonger is vir ’n bietjie liefde. “Here,” bid ek sag, “moenie dat ’n bietjie liggelowigheid aan my kant iemand anders se lewe in gevaar stel nie.” “Ek hoop ons sal nie nog sulke koue dae hierdie lente hê nie,” sê die offisier en trek vir my ’n stoel uit om op te sit. Versigtig gaan sit ek. Hoe eienaardig om ná drie maande ’n rugleuning agter my te voel en leunings vir my arms! Die stoof se hitte maak die vertrek gou warm. Ek kan dit nie keer nie. Ek begin ontspan. Ek waag ’n huiwerige opmerking oor die tulpe. “Sulke lang stele… Hulle moes pragtig gewees het.” “O, hulle was!” Die luitenant lyk skoon ingenome met homself. “Die beste wat ek nog ooit gekweek het. By die huis plant ons altyd Hollandse bolle.” Ons gesels ’n rukkie oor blomme en toe sê hy: “Ek sou jou graag wou help, mej Ten Boom, maar dan moet jy my alles vertel. Dalk sal ek iets vir jou kan doen, maar net as jy niks vir my wegsteek nie.” So gou al! Die vriendelikheid, die besorgdheid waarin ek net wou begin glo… dis net ’n listige plan om inligting te kry. Wel, hoekom nie? Hy is ’n kundige man en hy moet sy taak uitvoer. Maar nou ja, op geringe skaal is ook ek baie kundig. ’n Uur lank ondervra hy my en gebruik elke sielkundige lokval waarin die jong mans in ons groep my onderrig het. Om die waarheid te sê, ek voel soos ’n student wat haar kop vol inligting geprop het vir ’n bitter moeilike eksamen, maar dan net op die mees elementêre dinge getoets word. Dit word gou duidelik
hulle glo die Beje is die hoofkwartier van al die strooptogte op die voedselrantsoenkantore in die hele land. Van al die onwettige aktiwiteite wat ek op my gewete het, is dit waarskynlik die een waarvan ek die minste kennis dra. Behalwe die feit dat ek elke maand gesteelde kaarte ontvang en aangestuur het, ken ek geen besonderhede van dié bedrywigheid nie. Skynbaar raak hy oortuig van my werklike onkunde, want ná ’n rukkie hou luitenant Rahms op om aantekeninge te maak. “En u ander aktiwiteite, mej Ten Boom? Wat wil u vir my daarvan vertel?” “Ander aktiwiteite? U bedoel seker die dienste wat ek vir die gestremde kinders gehou het.” Ek val sommer weg en vertel gretig van my pogings om vir die verstandelik gestremdes kerk te hou. Die luitenant lig sy wenkbroue al hoe hoër. “Wat ’n algehele verkwisting van tyd en energie!” bars hy uiteindelik uit. “As u bekeerlinge wil hê, is een normale persoon baie meer werd as al die gestremdes in die hele wêreld.” Ek kyk in die man se intelligente blougrys oë, ’n ware Nasionaal-Sosialistiese beleid, tulpebedding, of te nie. Tot my verbasing hoor ek my stem waagmoedig vra: “Mag ek u die waarheid vertel, luitenant Rahms?” “Die verhoor, mej Ten Boom, vind juis plaas met die veronderstelling dat jy my hierdie besondere eer sal aandoen.” “Die waarheid, Luitenant,” sê ek en sluk swaar, “is dat God se gesigspunt soms van ons s’n verskil, so baie verskil dat ons dit nooit eens sal kan begryp as Hy nie vir ons ’n Boek gegee het wat hierdie dinge vir ons vertel nie.” Ek besef goed dit is waansinnig om só met ’n Nazi-offisier te gesels. Maar hy sê niks nie en ek praat dapper verder. “In die Bybel leer ek dat God ons nie weens ons krag of ons verstand waardeer nie, maar net omdat Hy ons gemaak het. Wie weet, in sy oog is ’n verstandelik gestremde mens dalk meer werd as ’n horlosiemaker. Of ’n luitenant.” Luitenant Rahms spring op. “Dit sal al wees vir vandag.” Hy loop vinnig deur toe. “Wag!” roep hy. Ek hoor die voetstappe op die gruispaadjie.
“Vat die gevangene terug na haar sel.” Terwyl ek die wag deur die lang, koue gange volg, weet ek: Ek het ’n fout gemaak. Ek het my mond te groot oopgemaak. Die enigste kans dat dié man my sou help, het ek nou vir goed vernietig. Tog is dit luitenant Rahms self wat die volgende oggend my seldeur oopsluit en my na die verhoor begelei. Skynbaar weet hy nie van die regulasie wat gevangenes verbied om op die mat te loop nie, want hy wys vir my ek moet voor hom uitloop, in die middel van die gang af. Ek vermy die oë van die wagte langs ons roete, so skuldig soos ’n goedgeleerde hond wat op die bank in die sitkamer betrap word. Hierdie keer skyn die son helder in die binnehof. “Vandag,” sê hy, “bly ons buite. Jy is bleek. Jy kry nie genoeg son nie.” Dankbaar volg ek hom na die verste hoek van die binnehof waar die lug warm en stil is. Ons gaan sit met ons rûe teen die muur. “Ek kon gisteraand nie slaap nie. Ek het die hele tyd bly dink aan die Boek waarin jy van so baie verskillende idees gelees het. Wat sê dit nog?” vra die luitenant vir my. Op my ooglede glinster en brand die son. “Dit sê,” begin ek stadig, “dat ’n Lig na die wêreld gekom het sodat ons nie meer in die duisternis hoef te leef nie. Is daar duisternis in jou lewe, Luitenant?” Daar volg ’n baie lang stilte. “Daar is groot duisternis,” sê hy uiteindelik. “Ek kan die werk wat ek hier doen nie meer verduur nie.” Hy vertel my van sy vrou en kinders in Bremen, van hulle tuin, hulle honde, hulle staptogte tydens die somervakansies. “Bremen is gisteraand weer onder die bomme gesteek. Elke oggend vra ek my af of hulle nog leef.” “Daar is Een wat hulle altyd kan sien, luitenant Rahms. Jesus is die lig waarvan die Bybel my vertel, die lig wat selfs in ’n duisternis soos ons s’n kan skyn.”
Die man trek sy pet so laag oor sy oë dat die skedel en gekruisde bene in die sonlig blink. Toe hy praat, is dit so sag dat ek hom skaars kan hoor. “Wat weet jý tog van ’n duisternis soos myne…?” Nog twee oggende duur die verhoor voort. Die luitenant het alle voorwendsels dat hy my oor ondergrondse werk uitvra, laat vaar. Dit lyk of hy enige stories oor my kinderdae geniet. Mamma, Pappa, die tannies… Hy wil net stories oor hulle hoor. Hy is ontsteld toe ek hom vertel dat Pappa hier in Scheveningen gesterf het. Die dokumente oor sy saak maak geen melding daarvan nie. Die dokumente beantwoord darem een vraag vir my: die rede vir my eensame aanhouding. “Gevangene se gesondheidstoestand aansteeklik vir ander in die sel.” Ek kyk na die kort, getikte reël waar luitenant Rahms sy vinger hou. Ek dink aan die lang folterende nagte met die wind wat huil, die fronsende wagte, die reël van volkome stilte. “Maar as dit nie ’n straf is nie, waarom is hulle so kwaad vir my? Hoekom mag ek nie eens praat nie?” Die luitenant rangskik die papiere voor hom in ’n netjiese stapeltjie. “’n Tronk is soos enige ander inrigting, mej Ten Boom. Daar is reëls en daar is maniere om dinge te doen…” “Maar ek kan nou nie meer ander mense aansteek nie. Ek is al weke lank beter en my suster is so naby aan my. Luitenant Rahms, as ek Betsie net kon sien! As ek net ’n paar minute met haar kon praat!” Hy kyk op van sy lessenaar af en ek sien die pyn in sy oë. “Mej Ten Boom, ek lyk dalk vir jou soos iemand wat gesag het. Ek dra ’n uniform, ja, en ek het ’n mate van gesag oor dié onder my. Maar ook ek is in ’n tronk, liewe vrou van Haarlem, en dit is ’n tronk baie sterker as dié een.” Dis die vierde en finale verhoor. Ons is weer in die hutjie sodat ek die verklaring kan onderteken. Hy tel die voltooide kopie op en loop daarmee uit. Hy laat my alleen daar agter. Ek is jammer om tot siens te sê vir hierdie man wat so ernstig na die waarheid soek. Die moeilikste ding vir hom om te verwerk is skynbaar dat Christene ly. “Hoe kan jy nóú nog in God glo? Watter soort God is dit wat ’n ou man hier in Scheveningen laat sterf?” Ek staan uit my stoel op en hou my hande uit na die plat stofie. Ek self verstaan nie hoekom Pappa in so ’n plek moes sterf nie. Daar is so baie wat ek nie verstaan nie. Maar skielik onthou ek Pappa se antwoord op moeilike vrae:
“Soms is kennis te swaar… jy kan dit nie dra nie… maar jou Vader sal dit vír jou dra totdat jy dit self kan doen.” Ja, ek sal vir luitenant Rahms van daardie treinreis vertel. Hy hou mos van stories oor Pappa. Maar toe hy terugkeer, is daar ’n wag van die vrouevleuel by die luitenant. “Gevangene Ten Boom se verhoor is verby. Sy moet teruggaan na haar sel toe.” Die jong vrou spring op aandag. Toe ek by die deur uit stap, leun luitenant Rahms nader. “Loop stadig in gang F,” sê hy. Loop stadig in gang F? Wat bedoel hy tog? Die wag stap so vinnig in die gange met die baie deure af dat ek moet draf om by te bly. Voor ons sluit ’n bevoorregte gevangene ’n sel oop. Ek raak ’n bietjie agter, so ver ek dit durf waag. My hart klop woes. Dit sal Betsie se sel wees. Ek weet dit! Skielik is ons reg voor die deur. Betsie se rug is na die gang gedraai. Ek kan net haar kastaiingbruin hare sien, sierlik in ’n bolla opgekam. Die ander vroue in die sel loer nuuskierig tot in die gang, maar Betsie se kop bly gebuig oor iets op haar skoot. Ek is egter tevrede. Ek het die tuiste gesien wat Betsie in Scheveningen gemaak het. En hoe ongelooflik dit ook al klink, hoe sterk dit ook al teen alle logika indruis… die sel is vir my pragtig. My oë kan net ’n paar besonderhede indrink terwyl ek byna sentimeter vir sentimeter by die sel verbyskuif. Die strooimatrasse is netjies opgerol, nie net in ’n hoop op mekaar gegooi nie. Dit staan soos pilaartjies teen die mure, elk met ’n dameshoed daarop. ’n Kopdoek is op ’n manier teen die muur oopgesprei. Die inhoud van etlike kospakkies is op ’n rakkie gerangskik. Ek kan Betsie al hoor sê: “Die rooi beskuitblik hier in die middel.” Selfs die jasse wat aan die hake hang, is ’n deel van die verwelkomende atmosfeer van die sel. Elke mou hang netjies oor die skouer van die jas langsaan, soos ’n ry dansende kinders… “Schneller! Aber schnell!” Ek skrik en stap vinnig agter die wag aan. Dit was die vlugtigste kykie, op die meeste twee sekondes, maar ek loop deur die gange van Scheveningen met Betsie singend in die gees langs my.
Die hele oggend hoor ek deure oop- en toegaan. Nou klingel die sleutels buite my sel. ’n Baie jong wag in ’n splinternuwe uniform spring so te sê by die deur in. “Gevangene, aandag!” skreeu sy in ’n piepstem. Ek kyk verbaas na haar. Die meisie is doodbang vir iets of iemand. ’n Skaduwee val in die oop deur. Die langste vrou wat ek nog ooit gesien het, stap by my sel in. Haar gelaatstrekke besit ’n klassieke skoonheid; sy het die gesig en oë van ’n godin, maar ’n godin uit marmer gekap. Daar is nie ’n flikkering van gevoel in haar oë sigbaar nie. “Ook geen lakens hier nie,” sê sy in Duits vir die wag. “Sorg dat sy teen Vrydag twee lakens het. Een moet elke twee weke omgeruil word.” Die yskoue oë kyk na my net soos hulle na die bed gekyk het. “Hoeveel keer gaan stort die gevangene?” Die wag lek oor haar lippe. “Omtrent een keer per week, Wachtmeisterin.” Een keer per week! Een stort per maand is nader aan die waarheid. “Sy gaan van nou af twee keer per week.” Ek kan my ore nie glo nie. Lakens! ’n Gereelde stort! Gaan toestande nou beter word? Die nuwe hoofmatrone gee twee treë dieper die sel in. Sy het nie die bed nodig om by die lig by te kom nie. Sy ruk met een hou my rooi sellofaanlampskerm af. Dan wys sy na ’n boks met sodabeskuitjies wat Nollie in ’n tweede pakkie vir my gestuur het. “Geen bokse in die sel nie!” skree die klein meisie in Hollands, so verontwaardig asof dit ’n stokou reël is wat oortree is. Omdat ek nie weet wat anders om te doen nie, gooi ek die beskuitjies op die bed uit. Op die matrone se onuitgesproke bevel doen ek dieselfde met ’n bottel vitamientablette en ’n sakkie pepermente.
Anders as die vorige matrone wat in haar geroeste skarnierstem geskreeu en ’n kabaal opgeskop het, werk dié vrou in angswekkende stilte. Met een gebaar beveel sy die wag om onder die matras te kyk. My hart klop woes in my keel. My enigste oorblywende en kosbare Evangelie is daar weggesteek. Die wag kniel en voel oral onder die bed met haar vingers. Of sy te senuweeagtig is om deeglik te soek en of daar ’n meer geheimsinnige verklaring is, weet ek nie, maar sy staan op met haar hande leeg. Dan is hulle weg. Ek staan en kyk met ’n dooie gevoel in my na die deurmekaarspul op my bed. Ek sien in my verbeelding hoe die vrou by Betsie se sel kom en dit terugdwing tot vier mure en ’n tronkbed. ’n Yskoue wind waai nou deur Sheveningen, besig om skoon te maak, bevele uit te blaf, dood te maak.
Dis die lang, laaistokregop vrou wat in die tweede helfte van Junie my seldeur een middag oopsluit en luitenant Rahms inlaat. Toe ek die harde uitdrukking op sy gesig sien, sluk ek vinnig die groet af wat byna uit my losgebars het. “Kom na my kantoor toe,” sê hy kortaf. “Die notaris het gekom.” Ons kan net sowel volkome vreemdelinge vir mekaar wees. “Notaris?” vra ek verward. “Om jou pa se testament te lees.” Hy maak ’n ongeduldige gebaar, en dis duidelik dat dié onbelangrike saak sy besige dag onderbreek het. “Dis die wet. Familie moet teenwoordig wees wanneer ’n testament gelees word.” Hy is reeds weg uit die sel en in die gang. Ek drafstap lomp agter hom aan en probeer hard om by te bly by die stil vrou langs my. Die wet? Watter wet? En van wanneer af hou die Duitse besettingsregering hom besig met Hollandse regsprosedures? Familie. Familie teenwoordig… Nee, moenie eens daaraan begin dink nie! raas ek met myself. By die deur wat op die binnehof oopmaak, swaai die matrone penregop en gevoelloos om en stap terug in die gang af. Ek volg luitenant Rahms tot in die verblindende vroeë somermiddag. Hy maak vir my die vierde hut se deur oop. Voor my oë aan die donker kan gewoond raak, versmoor Willem my byna in sy
omhelsing. “Corrie! Corrie! My kleinsus!” Dis vyftig jaar sedert hy my laas só genoem het. Dan is Nollie se een arm ook om my. Die ander een hou sy steeds om Betsie, asof sy ons met die krag van haar greep vir altyd bymekaar wil hou. Betsie! Nollie! Willem! Ek weet nie watter naam om eerste uit te roep nie. Ook Tine is daar in die hut. En… Flip! Ek raak bewus van nog ’n man. Toe ek tyd het om te kyk, herken ek die notaris van Haarlem wat ’n paar keer na die horlosiewinkel gekom het wanneer ons regshulp nodig gehad het. Ons hou mekaar ’n armlengte weg om goed na mekaar te kyk en oorval mekaar natuurlik met vrae. Betsie is maer en die bleekheid van die tronk lê oor haar gesig. Maar dis Willem wat my die meeste skok. Sy gesig is vervalle en geel en die pyn lê duidelik daarop. Toe hy van Scheveningen af huis toe is, het hy só gelyk, vertel Tine. Twee van die agt mans wat in daardie selletjie saamgehok was, is aan geelsug dood. Willem! Ek kan dit nie verdra om hom so te sien nie. Ek haak my arm deur syne en staan so naby aan hom dat ek nie na hom kan kyk nie. Ek wil maar net die klank van sy diep, ryk stem vol liefde hoor. Willem is skynbaar onbewus van sy siekte. Hy bekommer hom net oor Kik. Dié aantreklike jong man is die vorige maand gevang toe hy ’n Amerikaanse soldaat gehelp het om die Noordsee te bereik. Hulle glo hy was op een van die treine wat onlangs vol gevangenes na Duitsland vertrek het. Wat Pappa betref, het hulle nog ’n paar besonderhede oor sy laaste dae uitgevind. Hy het skynbaar in sy sel siek geword en is per motor na die munisipale hospitaal in Den Haag geneem. Daar was geen bed beskikbaar nie. Pappa het in ’n gang gesterf, op ’n manier geskei van sy dokumente en besonderhede en enige leidraad oor sy identiteit. Die hospitaal se gesaghebbendes het die onbekende ou man in ’n kerkhof vir armlastiges begrawe. Die familie glo hulle het nou sy graf opgespoor. Ek kyk na luitenant Rahms. Hy staan met sy rug na ons toe en staar af na die koue, dooie stoof. Haastig skeur ek die pakkie oop wat Nollie ongemerk in my hand gedruk het toe ons mekaar die eerste keer omhels het. Dis presies wat my
bonsende hart vir my gesê het dit sou wees: ’n Bybel, die hele Boek in ’n klein formaat, binne-in ’n sakkie met ’n toutjie sodat ek dit om my nek kan dra, soos ons vroeër ons identiteitsdokumente gedra het. Ek glip die tou vinnig oor my kop en laat sak die boekie onder my hemp teen my rug af. Ek het nie eens woorde om vir haar dankie te sê nie. Die vorige dag het ek in die ry voor die storte my laaste Evangelie weggegee. “Ons ken nie al die feite nie,” sê Willem saggies vir Betsie, “net dat die soldate ná ’n paar dae by die Beje weggeneem is en die polisie in hulle plek geplaas is.” Op die vierde nag het die hoof dit só bewerk dat Rolf en nog een van ons groep tydens dieselfde skof kon waghou. Hulle het al die Jode nog gesond in die geheime kamer gevind, al was hulle baie ongemaklik en honger. Almal is na nuwe skuilplekke geneem. “En nou?” fluister ek. “Gaan dit goed met hulle almal?” Willem kyk na my met sy oë diep weggesink. Hy kon nog nooit die waarheid wegsteek nie. “Dit gaan goed met hulle, Corrie, behalwe met Mary.” Mary Itallie is een mooi dag in hegtenis geneem toe sy in een van die stad se strate geloop het. Waarheen sy op pad was en hoekom sy haarself so in die helder daglig blootgestel het, weet niemand nie. “Tyd is verstreke.” Luitenant Rahms hou op om die stoof te bestudeer en knik vir die notaris. “Gaan voort met die lees van die dokument.” Dis ’n kort, informele dokument: Die Beje bly my en Betsie se tuiste solank ons dit wil hê. Sou daar ooit geld verkry word deur die huis of horlosiewinkel te verkoop, weet hy ons sal onthou dat sy liefde vir ons ewe groot was. Hy vertrou ons met vreugde aan die ewigdurende sorg van God toe. In die stilte wat volg, buig ons almal saam ons hoofde. “Here Jesus,” sê Willem, “ons dank U vir die oomblikke wat ons deurgebring het onder die beskerming van hierdie goeie man. Hoe kan ons hom bedank? Ons het nie die vermoë om hom enige diens te bewys nie. Heer, laat ons dan toe om hierdie erfnis van ons pa ook met hom te deel. Neem hom en sy gesin onder u ewigdurende sorg.” Buite knars ’n wag se voetstappe op die gruispaadjie.
12
Vught
“Kry julle goed bymekaar. Maak gereed om die plek te ontruim. Pak alles in julle kussingslope.” Die wagte se bevele weerklink op en af met die gang. Ek staan in die middel van my sel en bewe van opgewondenheid. Ontruim! Dan… dan is iets mos besig om te gebeur! Ons gaan die tronk verlaat. Die teeninval moes begin het… Ek gryp die sloop en skud die bietjie strooi wat ek daarin gestop het uit. Watter rykdom was die growwe stukkie moeselien tog vir my in die twee weke sedert dit aan ons uitgedeel is! ’n Skild vir my kop teen die gekrap en stank van die beddegoed. Dit het byna nie saak gemaak dat die beloofde lakens nooit hulle verskyning gemaak het nie. Met bewende hande stop ek my paar besittings in die sloop – die blou oortrektrui, my nagklere, nou voor en agter vol geborduurde figure, my tandeborsel, ’n kam, ’n paar oorblywende sodakoekies in toiletpapier toegedraai. My Bybel is in die sakkie om my nek, waar dit altyd bly tensy ek daaruit lees. Ek trek my jas aan, sit my hoed op en gaan staan by die ysterdeur, die sloop styf in my hande vasgeklem. Dis nog vroeg in die oggend. Die blikbord waaruit ek ontbyt geëet het, is nog nie eens van die deurrakkie af verwyder nie. Ons is binne ’n oogwink gereed. ’n Uur sleep verby. Ek sit op my bed. Twee ure. Drie. Dis warm in die sel op dié dag laat in Junie. Ek haal my hoed af, trek my jas uit, vou dit op en sit dit langs my op die bed neer. Nog tyd sleep verby. Ek hou my oog op die miere se gaatjie in die hoop dat my
klein vriende ’n laaste besoek by my sal aflê, maar hulle maak nie hulle verskyning nie. Waarskynlik het ek hulle skrik gemaak toe ek vroeër so heen en weer gehardloop het. Ek voel in my kussingsloop, haal een van die beskuitjies uit en strooi krummels om die krakie in die vloer. Geen miere nie. Hulle bly veilig versteek. Skielik besef ek dat dit ’n boodskap is, ’n laaste woordelose kommunikasie tussen vriende. Ook ek het ’n skuilplek wanneer die wêreld moeilik word. Jesus is my skuilplek, die rots vir my oopgekloof. Ek druk met my vinger op die krakie. Die middagson verskyn teen die muur en beweeg langsaam oor die sel. Skielik is daar ’n gekletter buite in die gang. Slotte skiet oop. Deure skraap oor die vloer. “Uit! Schnell! Almal uit! Geen gepraat nie!” Ek gryp my hoed en jas. My deur gaan knarsend oop. “Vorm rye van vyf.” Die wag is reeds by die volgende sel. Ek stap uit in die gang. Dis propvol mense van muur tot muur. Ek het nooit geweet daar is so baie vroue in die selle nie. Ons kyk na mekaar. “Inval,” vorm ons die woord met ons lippe. Dit versprei geluidloos deur die skare vroue, soos ’n elektriese stroom. Die inval in Holland het sekerlik begin! Waarom anders sou hulle die tronk leegmaak? Waarheen word ons geneem? Waarheen is ons op pad? Nie Duitsland toe nie! Liewe Here, net nie Duitsland nie! Die bevel word gegee en ons skuifel vorentoe in die lang ysige gang af, elk met ’n sloop waarin haar paar besittings bult. Uiteindelik bereik ons die groot binnehof net binne die voorhek van die tronk. Weer wag ons lank. Maar hierdie keer is die wag lekker met die laatmiddagson op ons rûe. Ver regs sien ek die rye mans staan. Hoe ek ook al my nek rek en draai, vir Betsie sien ek nêrens nie. Uiteindelik swaai die enorme hek na binne oop en ’n konvooi grys busse ry in. Ek word in die derde bus ingestamp. Die sitplekke is uit en die vensters donker geverf. Die bus ruk gevaarlik toe ons wegtrek, maar ons staan te dig opmekaar
om te val. Toe die bus stampend tot stilstand kom, is ons by ’n goederewerf iewers aan die buitewyke van die stad. Weer moet ons in gelid gaan staan. Die wagte se stemme is skerp en gespanne. Ons moet stip voor ons kyk. Agter ons hoor ons busse aankom en weer wegrammel. Dit is nog lig, maar ek kan aan die hongerpyne in my maag voel dat dit ver verby die tyd vir aandete is. Toe ek weer kyk, sien ek links voor my, in die laaste groep wat opgedaag het, ’n kastaiingkleurige bolla. Betsie! Op ’n manier sal ek by haar uitkom, al weet ek nou nog nie hoe nie. In plaas daarvan om te smag dat die dag moet verbygaan, bid ek nou dat ons tot ná donker moet bly waar ons is. Stadig sterf die lang Junie-dag weg. Die donderweer rammel en ’n paar druppels reën val. Einde ten laaste rol ’n lang ry donker spoorwegwaens stadig voor ons verby oor die spoor. Stamp-stamp kom dit tot stilstand, rol ’n bietjie verder en gaan staan dan weer. Ná ’n rukkie beweeg die waens agteruit. ’n Uur of langer beweeg die trein vorentoe, agtertoe, vorentoe, agtertoe. Toe ons die bevel kry om op die waens te klim, is dit reeds pikdonker. Die rye gevangenes golf vorentoe. Agter ons skreeu en vloek die wagte. Dit is duidelik dat hulle senuweeagtig is om soveel gevangenes op een slag te vervoer. Ek beur en stoot na links. Elmboë en skouers is in my pad, maar ek wikkel tussen almal deur. By die trein se trappies steek ek my arm uit en gryp Betsie se hand. Saam klim ons op; saam vind ons ’n sitplek in ’n oorvol kompartement; saam stort ons trane van dankbaarheid. Die vier maande in die Scheveningen-tronk was ons eerste skeiding in drie en vyftig jaar. Dit voel vir my of ek enigiets kan verduur met Betsie aan my sy. Die ure sleep verby terwyl die swaargelaaide trein steeds op die syspoor staan. Vir ons vlieg die tyd egter, want daar is so baie wat ons vir mekaar wil vertel. Betsie vertel my van haar selmaats, en ek vertel haar van myne, en van die gaatjie waarin hulle vlug wanneer daar nood kom. Soos gewoonlik het Betsie alles wat sy gehad het vir ander weggegee. Uit die Bybel wat Nollie vir haar ingesmokkel het, het sy die hoofstukke een vir een uitgeskeur en vir ander gevangenes gegee. Dit moet ongeveer twee-uur of drie-uur in die oggend wees toe die trein uiteindelik begin ruk. Ons druk ons gesigte teen die ruite van die wa, maar
nêrens is daar ’n liggie te sien nie. Die wolke is voor die maan. Die oorheersende gedagte by almal is: Gaan dit Duitsland wees? Op een plek kan ons ’n toring uitmaak en Betsie is seker dis die katedraal van Delft. ’n Uur of wat later verander die klakgeluid van die wiele. Ons gaan oor ’n brug. Maar so ’n lang brug? Toe die minute verbytik en ons steeds nie die ander kant bereik het nie, kyk ek en Betsie na mekaar. Die Moerdijkbrug. Ons ry suidwaarts. Nie ooswaarts nie. Nie Duitsland toe nie, maar suidwaarts na Brabant. Vir die tweede maal huil ons trane van vreugde. Ek leun met my kop teen die houtsparre van die sitplek en maak my oë toe terwyl ek ’n ander reis na Brabant herleef. Mamma se hand het toe Pappa s’n vasgegryp elke keer wanneer die trein geswaai het. Dit was ook Junie, die Junie van Willem se eerste preek, van die tuin agter die pastorie, van Karel… Ek moes daar ver in my Junie-drome aan die slaap geraak het, want toe ek my oë weer oopmaak, het die trein tot stilstand gekom. Stemme skreeu op ons om te beweeg. “Schneller! Aber schnell!” ’n Onheilspellende gloed verlig die vensters. Ek en Betsie strompel agter die ander aan oor die paadjie en met die ystertrap af. Dit lyk of ons in die middel van ’n woud tot stilstand gekom het. Spreiligte bo in bome verlig ’n breë oopgekapte pad met soldate wat aan weerskante staan met hulle gewere op ons gerig. Aangespoor deur die wagte se geskreeu, begin ek en Betsie met die pad langs loop, tussen die geweerlope deur. “Schneller! Geen spasie tussen julle nie! Vyf langs mekaar!” Betsie haal vinnig en moeilik asem, en steeds skreeu hulle op ons om nog vinniger te stap. Dit moes hard gereën het hier, want daar is diep poele water in die pad. Voor ons stap ’n vrou met grys hare eenkant toe om ’n poel water te vermy. ’n Soldaat stamp haar in die rug met ’n geweerkolf. Ek neem Betsie se kussingsloop by haar, haak my ander arm deur hare en sleep haar feitlik saam met my. Die nagmerrie duur voort. Ná ongeveer ’n kilometer en ’n half kom ons by ’n doringdraadheining wat om ’n ry houtbarakke gespan is. Daar is geen beddens in die barak waar ons instap nie, net lang tafels met banke sonder rugleunings tot teen die tafels getrek. Ek en Betsie val op een bank neer. Onder my arm kan ek die onreëlmatige klop van haar hart hoor. Totaal uitgemergel raak ons aan die slaap, ons
koppe op die tafel. Die sonskyn stroom deur die barak se vensters toe ons wakker word. Ons is dors en honger, want sedert die ontbyt by Scheveningen die vorige dag het ons nog niks geëet of gedrink nie. Maar die hele dag lank kom daar nie ’n wag óf enige ander amptelike persoon by die barak in nie. Toe die son laag in die weste hang, kom ’n span gevangenes uiteindelik daar aan met ’n groot vat gevul met iets stomend en taai. Ons sluk dit gulsig weg. Só begin ons verblyf op ’n plek wat, so verneem ons, Vught genoem word, vernoem na die naaste dorpie. Anders as Scheveningen wat ’n gewone Hollandse tronk is, is Vught spesiaal as ’n konsentrasiekamp vir politieke gevangenes opgerig. Ons is nog nie in die werklike kamp nie, maar in ’n soort kwarantynkamp aan die buitekant. Ons grootste probleem is dat ons niks het om te doen nie, al sit ons styf teen mekaar vasgepak om die lang rye tafels. Dieselfde jong vroue wat die gange van Scheveningen gepatrolleer het, pas ons nou ook op. Hulle was opgewasse teen gevangenes agter geslote deure, maar hier lyk hulle duidelik ongemaklik. Hulle enigste manier om dissipline te handhaaf, is om in die vieslikste taal op ons te skree en almal voor die voet te straf. Halwe rantsoene vir die hele barak. ’n Ekstra inspeksie terwyl ons streng op aandag staan. Algehele stilte vir vier en twintig uur. Net een van ons opsigters dreig nooit nie en verhef nooit haar stem nie – die lang, stil hoofmatrone van Scheveningen. Op die derde oggend verskyn sy in Vught tydens die heel eerste inspeksie van die oggend. Dit is asof daar sommer dadelik orde in ons slordige en opstandige groep kom. Rye word reguit; hande word styf teen sye vasgedruk; die gefluister raak stil wanneer die koue blou oë oor ons gaan. Onder ons staan sy gou as “die Generaal” bekend. Tydens een lang inspeksie sak ’n swanger vrou aan ons tafel op die vloer neer en stamp haar kop hard teen die kant van die bank. Die Generaal hou nie eens ’n oomblik op om die lys name uitdrukkingloos uit te lees nie. Die vrou bly so lê totdat die inspeksie verby is. Ons is ongeveer twee weke in die buitekamp van Vught toe my naam, Betsie se naam en nog tientalle ander s’n tydens die oggendinspeksie uitgeroep word. Ná die ander verdaag het, oorhandig die Generaal getikte vorms aan ons elkeen en
beveel ons om dit om nege-uur by die istrasiebarak in te gee. ’n Werker van die kosspan – ’n langtermyngevangene van die hoofkamp – glimlag bemoedigend vir ons terwyl hy ons ontbyt inskep. “Julle is vry!” fluister hy. “Daardie pienk vorms beteken vrylating.” Ek en Betsie staar ongelowig na die papier in ons hande. Vry? Vry om te vertrek? Vry om huis toe te gaan? Die ander drom om ons saam, wens ons geluk en omhels ons. Betsie se selmaats van Scheveningen huil onbeskaamd. Hoe wreed voel dit om hulle almal agter te laat! “Die oorlog behoort gewis binnekort verby te wees,” sê ons vir hulle. Ons maak ons kussingslope leeg en gee ons paar besittings aan dié wat moet agterbly. Lank voor nege-uur staan ons al voor die groot wagkamer van die houtgebou waar die istrasie gedoen word. Uiteindelik word ons na ’n binnekantoor geroep waar ons vorms ondersoek, gestempel en aan ’n wag oorhandig word. Ons volg dié man in die gang af en by ’n ander kantoor in. Die proses duur ure lank. Van die een kantoor na die ander en van die een amptenaar na die ander. Ons word ondervra, ons vingerafdrukke word geneem en dan word ons na die volgende persoon aangestuur. Die groep gevangenes groei totdat daar veertig of vyftig van ons is wat in ’n ry langs ’n ankertouheining met doringdraad bo-op staan. Aan die ander kant van die heining is ’n wit berkeboom en bokant ons die blou Brabantse lug. Ook ons behoort aan daardie vrye wêreld. In die volgende barak waar ons instap, sit ’n ry vroueklerke agter lessenaars. Een van hulle oorhandig ’n bruin koevert aan my. Ek maak dit in my hand leeg en staar vol ongeloof na my Alpina-horlosie… en na Mamma se ring. Selfs my gulde is daar. Ek het dit nooit weer gesien ná die aand toe ons by Scheveningen aangekom het nie. Geld… nou ja, dit behoort aan die wêreld van winkels en trems. Ons kan met dié geld na ’n spoorwegstasie toe gaan. Twee kaartjies na Haarlem, asseblief… Ons stap met ’n pad tussen gedraaide rolle doringdraad langs en dan deur ’n wye hek tot in ’n kampong met lae sinkdakbarakke. Nog meer rye vorm; weer wag ons; weer skuifel ons van tafel na tafel. Dié kamp en prosedure voel skielik vir my onwerklik. Dan staan ons voor ’n hoë toonbank en ’n jong manlike klerk sê: “Laat alle persoonlike besittings by die venster gemerk C.”
“Maar hulle het dit dan nou net vir my teruggegee.” “Horlosies, beursies, juwele…” Meganies, asof ek geen wil het nie, oorhandig ek my horlosie, ring en geld deur die tralievenster. ’n Vrou in uniform vee dit met een beweging tot in ’n metaalkassie. “Aanstap! Volgende!” Gaan ons dan nie vrygelaat word nie? Buite die gebou laat staan ’n rooigesigoffisier ons in ’n dubbelry en laat marsjeer ons oor die wye paradegrond. Aan die een kant is ’n span mans met kaalgeskeerde koppe en gestreepte oorpakke besig om ’n sloot te grawe. Wat beteken dit alles? Wat beteken enigiets van dié lang dag vol rye en wagtye? Betsie se gesig is vaal van uitputting en sy struikel terwyl ons voortstap. Deur nog ’n heining en dan is ons in ’n kampie wat aan drie kante deur lae betongeboue omring is. ’n Jong vrou in ’n militêre jas wag vir ons. “Gevangenes, halt!” blaf die rooigesigoffisier. “Verduidelik aan die nuwelinge wat die funksie van die bunkers is, Fraulein.” “Die bunkers,” begin die meisie met die verveelde stem van ’n museumgids, “dien as akkommodasie vir dié wat nie die kampreëls gehoorsaam nie. Die kamer is gerieflik, al is dit klein, omtrent die grootte van ’n sluitkassie in ’n gimnasium. Om die opvoedkundige proses te bespoedig, word die hande bokant die kop vasgebind…” Terwyl die afgryslike toespraak voortduur, kom twee wagte uit ’n bunker en dra tussen hulle iets wat soos ’n man lyk. Hy moet nog leef, want sy bene roer, maar skynbaar het hy geen bewustelike beheer oor sy liggaam nie. Sy oë rol diep in sy kop. “Nie elkeen waardeer die akkommodasie in die bunkers nie,” sê die meisie in dieselfde onpersoonlike stem. Ek gryp Betsie se arm vas toe die bevel kom dat ons verder moet stap, meer om myself te probeer beheer as om haar te ondersteun. Weer herinner die oomblik my aan my treinrit saam met Pappa. Sulke wreedheid is te veel om te verwerk, te veel om te verduur. Hemelse Vader, dra dit vir my!
Ons volg die offisier in die wye straat af met barakke weerskante van ons. Dan gaan staan ons by een vaalbruin barak. Dis die einde van ’n lang dag van staan, wag en hoop… en ons het so pas in Vught se hoofkamp aangekom. Die barak lyk presies soos die een wat ons die oggend verlaat het, behalwe dat hierdie een slaapbanke én tafels en sitbanke het. Steeds word ons nie toegelaat om te sit nie. Vir oulaas moet ons wag terwyl die matrone ons dokumente met ’n opsetlike langdradigheid wat ’n mens waansinnig kan maak met die besonderhede op ’n ander lys vergelyk. “Betsie!” kerm ek. “Hoe lank sal dit nog duur?” “Miskien ’n baie, baie lang tyd. Miskien baie jare. Maar watter beter manier kan daar wees om ons lewe deur te bring?” Ek draai om en staar haar aan. “Waarvan praat jy?” “Dié jong vroue… die meisie by die bunkers. Corrie, as mense geleer kan word om te haat, kan hulle geleer word om lief te hê. Ons moet ’n manier vind, ek en jy, maak nie saak hoe lank dit duur nie…” Sy hou aan praat en vergeet in haar opwinding skoon om te fluister. Ek probeer die hele tyd begryp dat sy regtig na die wagte verwys. Ek kyk na die matrone voor ons. Ek sien haar vaal uniform en pet; Betsie sien ’n mens wat geestelik vermink is. En ek wonder, nie vir die eerste keer nie, oor dié suster van my. Watter soort mens is sy? Watter soort pad volg sy terwyl ek op die gans te soliede aardbodem langs haar aansukkel?
So paar dae later word ek en Betsie geroep om ons werkopdragte te ontvang. Een kyk na Betsie se bleek gesig en haar tingerige liggaam en die matrone stuur haar smalend na die barakke waar die oues en siekes die dae verwyl deur uniforms vir die gevangenes te maak. Die vroue-uniform hier in Vught is ’n blou oorpak met ’n rooi streep langs die been af. Dis prakties en gerieflik en ’n welkome verandering van ons eie klere wat ons dra sedert die dag dat ons in hegtenis geneem is.
Blykbaar lyk ek sterk genoeg vir harde werk. Ek word beveel om by die Phillipsfabriek aan te meld. Dié “fabriek” is eintlik niks anders nie as nog ’n groot barak binne die kampkompleks. Al is dit nog maar vroeg in die oggend, begin die teer onder die dakspane reeds blase trek in die warm Julie-son. Ek volg my leier na die enkele groot kamer waar ’n paar honderd mans en vroue by lang planktafels sit. Voor hulle lê duisende radio-onderdele. Twee offisiere, ’n man en ’n vrou, stap in die paadjies tussen die tafels rond terwyl die werkers geboë oor hulle taak sit. Ek kry ’n sitplek op ’n voorste bank en word aangesê om glasstafies te meet en volgens hulle lengte in hopies te pak. Dis eentonige werk. Die hitte van die dak druk soos ’n swaar gewig op my kop. Ek brand om ten minste vir die mense weerskante van my te sê wat my naam is en waar ek vandaan kom, en om vir hulle te vra wie hulle is. Die enigste geluid in die kamer is egter die geklink van metaaldeeltjies en die gekraak van die offisiere se skoene. Hulle bereik die deur reg oorkant my. “Produksie was verlede week weer hoër,” sê die manlike offisier in Duits aan ’n lang, skraal man met ’n kaalgeskeerde kop en gestreepte uniform. “Daarvoor kan jy net geprys word. Ons ontvang egter steeds klagtes oor foutiewe bedrading. Die beheer oor gehalte moet verbeter word.” Die man met die kaalgeskeerde kop maak ’n apologetiese gebaar. “As daar net meer kos was, Herr Officier,” sê hy saggies. “Sedert die rantsoene gesny is, sien ek ’n verskil. Hulle word vaak. Hulle vind dit moeilik om te konsentreer…” Sy stem herinner my ’n bietjie aan Willem se diep, beskaafde stem, die Duits met net so ’n tikkie van ’n Hollandse aksent. “Dan moet jy hulle wakker maak! Laat hulle goed dink aan die straf. As soldate aan die front op halwe rantsoene kan veg, kan hierdie lui…” ’n Vreesaanjaende kyk van die vroulike offisier laat hom dadelik stilbly. Hy lek oor sy lippe. “Dit is… Jy sien… ek noem dit natuurlik net as ’n voorbeeld. Daar is geen waarheid hoegenaamd in die gerug dat rantsoene aan die front verminder is nie. Ek hou jou persoonlik verantwoordelik!” Saam stap die twee Duitsers by die gebou uit. ’n Oomblik hou die opsigter van die gevangenes hulle van die deur af dop. Stadig lig hy sy linkerhand en laat dit dan met ’n harde klap teen sy sy val. Die
geluid ontplof in die stil vertrek. Van onder die tafels uit verskyn skryfpapier, boeke, breiwol, blikke beskuitjies. Werkers verlaat hulle banke en sluit by groepies babbelende vriende aan. Tientalle drom om my saam: Wie is ek? Waar kom ek vandaan? Het ek enige nuus oor die oorlog? Ná ’n halfuur se gesels en rondloop tussen die tafels deur, herinner die opsigter ons dat ons ’n dag se kwota het om te bereik. Almal stap stadig terug na hulle plekke toe. Die opsigter, verneem ek, se van is Moorman. Hy was die hoof van ’n Rooms-Katolieke seunskool. Op die derde dag kom hy na my werksbank toe. Hy het gehoor dat ek die hele monteerbaan deur die barak gevolg het om uit te vind wat van my eentonige glasstafies word. “Jy is die eerste vrouewerker wat enige belangstelling toon in wat ons hier vervaardig.” “Ek stel baie belang,” sê ek. “Ek is ’n horlosiemaker.” Hy kyk met nuwe belangstelling na my. “Dan het ek werk wat jy baie meer sal geniet.” Hy neem my na die teenoorgestelde kant van die groot vertrek waar die laaste oordragskakelaar gemonteer word. Dit is ingewikkelde en veeleisende werk, al is dit nie naastenby so moeilik soos om horlosies reg te maak nie. Mnr Moorman is reg. Ek geniet dit en dit help om die elf uur lange werkdag gouer om te kry. Nie net teenoor my nie, maar teenoor al die werkers by die Phillips-fabriek tree mnr Moorman eerder op soos ’n goedhartige oudste broer, en nie soos die wrede baas van ’n span nie. Ek hou hom dop waar hy aanhoudend tussen die honderde mense onder sy bevel rondloop en raad gee en bemoedig. Hy vind ’n eenvoudiger taak vir dié wat moeg is, en ’n moeiliker taak vir die rusteloses. Ons is langer as ’n maand in Vught voordat ons uitvind dat sy twintigjarige seun in daardie kamp doodgeskiet is die week toe ek en Betsie daar aangekom het. Sy smart wys hy geensins nie. Geen teken van sy persoonlike verlies blyk uit sy sorgsaamheid oor die res van ons nie. Hy kom staan in die eerste weke dikwels by my bank, meer om vas te stel hoe my gemoedstoestand is as om na my werk te kyk. Maar later gly sy oë tog oor die ry oordragskakelaars voor my… “Liewe horlosiedame!” roep hy uit. “Kan jy dan nie onthou vir wie jy werk nie? Dié radio’s is vir húlle vegvliegtuie.” Hy steek sy hand oor my uit en ruk ’n draad uit sy omhulsel of draai ’n klein buisie uit ’n montering los.
“Soldeer dit nou verkeerdom vas. En nie so haastig nie! Jy is reeds klaar met die dag se kwota en dis nog nie eens middag nie.” Etenstyd sou die heel beste tyd van die dag wees as ek dit net saam met Betsie kon deurbring. Die Phillips-werkers word egter nie toegelaat om die fabriekskampong te verlaat totdat die werksdag om sesuur die aand eindig nie. Gevangenes op kosdiens dra groot emmers pap in wat van koring en ertjies gemaak is, smaakloos maar voedsaam. Skynbaar is die rantsoene onlangs gesny, maar die kos is beter en meer as in Scheveningen waar ons in die middag glad nie kos gekry het nie. Nadat ons geëet het, is ons vry om vir ’n geseënde halfuur buite in die vars lug en die heerlike Brabantson rond te stap. Meestal kry ek ’n plek langs die heining en strek my op die warm grond uit om te slaap. Ons dae begin immers met ’n inspeksie om vyfuur die oggend. ’n Bries dra die soet somergeure van die omliggende plase nader. Soms droom ek ek loop hand aan hand met Karel in ’n laan op die platteland. Om sesuur saans is daar weer ’n inspeksie en dan marsjeer ons na ons onderskeie slaapbarakke toe. Betsie staan altyd in die deur van ons barak vir my en wag. Elke aand is dit of ’n week verloop het, so baie het ons om vir mekaar te vertel. “Daardie Belgiese seun en meisie in die bank langs myne? Hulle het vanmiddag verloof geraak.” “Mev Heersma, wie se kleindogter Duitsland toe geneem is, het my vandag saam met haar laat bid.” Een dag raak Betsie se nuus ons direk. “’n Vrou uit Ermelo is vandag na die kleremaakafdeling verplaas. Toe ek myself aan haar voorstel, sê sy: ‘Nog een!’” “Wat het sy daarmee bedoel?” “Corrie, onthou jy die dag toe ons in hegtenis geneem is? ’n Man het na die winkel toe gekom. Jy was siek en ek moes jou wakker maak, want hy wou net met jou praat.” Ek onthou dit baie goed. Ek onthou sy dwalende oë, die ongemaklike gevoel op die krop van my maag, wat meer as net koors was.
“Skynbaar het almal in Ermelo hom geken. Hy het vanaf die eerste dag van die besetting met die Gestapo saamgewerk. Hy het die vrou se twee broers verraai oor hul ondergrondse werk gedoen het, en uiteindelik ook vir haar en haar man. Toe Ermelo sy verraad ontdek, is hy Haarlem toe. Daar het hy by Willemse en Kapteyn aangesluit. Sy naam is Jan Vogel.” Dit voel vir my of daar vlamme in my hart rondom hierdie naam opspring. Ek dink aan Pappa se laaste ure, alleen en verward in ’n hospitaalgang. Ek dink aan ons ondergrondse werk wat so skielik tot ’n einde gekom het. Ek dink aan Mary Itallie wat in hegtenis geneem is toe sy in ’n straat af gestap het. En ek weet, as Jan Vogel nou voor my kom staan, sal ek hom kan doodmaak. Betsie trek die lapsakkie onder haar oorpak uit en hou dit na my toe uit, maar ek skud my kop. Betsie hou die Bybel in die dag, want sy het meer kans om daaruit te lees en ander mense daaruit te leer as ek in die Phillips-fabriek. Saans hou ons geheime bidure vir soveel moontlik vroue wat om ons bed kan saamdrom. “Lei jy maar die biduur vanaand, Betsie. Ek het hoofpyn.” Nee, dis meer as hoofpyn. My hele wese pyn met die swaarheid van my gevoel teenoor die man wat ons soveel kwaad aangedoen het. Dié nag slaap ek nie, en die volgende dag by my bank hoor ek nouliks die gesprekke rondom my. Teen die einde van die week het ek myself, liggaam en gees, so siek gemaak van die spanning in my dat mnr Moorman by my bank kom staan en vra of daar iets fout is. “Fout? Ja, iets is fout!” Ek val sommer weg met ’n beskrywing van daardie oggend in die Beje. Ek is net te gretig om vir mnr Moorman en die hele Holland te vertel hoe Jan Vogel sy land verraai het. Wat ek glad nie kan verstaan nie, is Betsie se gesindheid. Sy moes presies dieselfde swaarkry as ek deurstaan, en tog lyk dit of sy glad nie die las van woede en verbittering dra nie. “Betsie!” sis ek een aand toe ek weet my rustelose gewoel hou haar beslis wakker. Drie van ons slaap nou op dié enkelbed, want die oorvol kamp kry elke dag nog nuwe aankomelinge by. “Betsie, voel jy dan niks vir Jan Vogel nie? Hinder dit jou nie wat hy gedoen het nie?” “O ja, Corrie! Verskriklik! Ek voel jammer vir hom vandat ek uitgevind het wat hy gedoen het. Ek bid vir hom elke keer wanneer ek aan hom dink. Hoe verskriklik swaar moet hy nie kry nie.”
Lank lê ek stil in die yslike donker barak, rusteloos van die gesug, gesnork en gewoel van honderde vroue. Weer kry ek die gevoel dat die suster saam met wie ek my hele lewe deurgebring het op ’n manier aan ’n ander wêreld behoort. Sê sy dalk op haar sagte manier vir my ek is net so skuldig soos Jan Vogel? Staan ek en hy nie saam voor die alsiende God nie? Word ons nie saam skuldig bevind aan dieselfde sonde – moord – nie? Want ek het hom met my hart en my tong vermoor. “Jesus,” fluister ek, “ek vergewe vir Jan Vogel en bid dat U my sal vergewe. Ek het hom groot skade aangedoen. Seën hom en sy gesin.” Daardie nag, vir die eerste keer sedert ons die verraaier se naam gekry het, slaap ek diep en sonder drome totdat die fluitjie ons na die inspeksie roep.
Die dae in Vught is ’n verbluffende mengsel van goed en kwaad. Die oggendinspeksies is dikwels onmenslik lank. Wanneer die onbenulligste reël verbreek word, soos een enkele gevangene wat laat by die aandinspeksie aankom, word die hele barak gestraf met ’n inspeksie om vieruur of selfs halfvier die oggend. Ons word gedwing om so lank op aandag te staan dat ons rûe pyn en ons bene kramp. Maar die somerlug is warm en lewend met voëltjies wanneer die dag naderkom. Geleidelik verlig ’n pienk en goue sonsopkoms die uitgestrekte lug bokant Brabant. Om halfses kry ons swart brood en “koffie”, bitter en warm. Dan val ons in by ons onderskeie rye vir ons spesifieke werk. Ek sien altyd uit na die stappie na die Phillips-fabriek, want ’n gedeelte van die pad loop langs ’n woud verby. Ons word net deur ’n rol doringdraad van ’n wêreld skitterend met doudruppels geskei. Ons loop ook by ’n deel van die mans se kamp verby. Baie vroue in ons groep doen hulle uiterste bes om ’n man of seun tussen die kaalgeskeerde koppe en gestreepte oorpakke te herken. Dis nog een van die teenstrydighede van Vught. Ek is elke dag oneindig dankbaar om weer by mense te wees, maar wat ek tydens my eensame aanhouding nie besef het nie, is dat om kamerade te hê ook beteken om hulle hartseer te dra. Ons ly saam met die vroue wie se mans in hierdie kamp is. Die dissipline in die mansafdeling is baie strenger as in die vroue se kampe. Daar is dikwels teregstellings. Byna elke dag laat ’n sarsie skote die angstige fluistering rondgaan: Hoeveel dié keer? Wie was dit?
Die vrou wat langs my aan die oordragskakelaars werk, is ’n vurige kommunis met die van Floor. Sy en haar man kon daarin slaag om hulle twee kindertjies veilig by vriende te kry voordat hulle gevange geneem is. Maar elke dag bekommer sy haar hardop oor hulle en oor mnr Floor, wat tering het. Hy werk in die toumaakspan in die kampong langs die Phillips-fabriek. Elke middag kry hulle dit reg om ’n paar woorde met mekaar te praat deur die doringdraadheining wat die twee kampe skei. Al verwag sy ’n derde kind in September eet sy nooit haar oggendrantsoen nie, maar gee die brood deur die draad vir hom. Sy is gevaarlik maer, voel ek, vir ’n verwagtende ma. ’n Paar keer bring ek vir haar ’n deel van my eie brood, maar elke keer sit sy dit eenkant vir mnr Floor. Ten spyte van al die hartseer en kommer – niemand in dié plek is immers sonder hartseer en kommer nie – lag ons ook baie in die Phillips-fabriek. Iemand na-aap die hoogdrawende tweede luitenant. Ons speel blindemol. ’n Liedjie spoel oor van die een bank na die volgende… “Dik wolke! Dik wolke!” Dié woorde kom van enige bank wat op ’n venster uitkyk. Die fabrieksbarak lê in die middel van die wye Phillips-kampong; daar is geen manier waarop ’n kampbeampte daar kan aankom sonder om oor die oop stuk grond te loop nie. Binne ’n oogwink is elke bank beman en die enigste geluid die metodiese geratel van radio-onderdele. Een oggend word die kodewoorde nog deur die lang gebou gestuur toe ’n taamlik ronde Aufseherin by die deur in stap. Woedend kyk sy rond, haar gesig persrooi omdat sy dink “dik wolke” verwys na haar voorkoms. Sy gil en skreeu en vaar ’n hele kwartier teen ons uit en skort toe ons vrye middagtyd in die buitelug op. Ons kies toe maar ’n neutraler woord – “vyftien.” “Ek het vyftien wyserplate inmekaargesit.” Op die lang warm middae verdwyn alle kaskenades en geselsery egter. Elkeen hou hulle met hul eie gedagtes besig. Ek krap teen die kant van die tafel die getal dae uit tot 1 September. Daar is eintlik niks amptelik aan dié datum nie, net maar ’n toevallige opmerking van mev Floor dat ses maande die gewone straf is vir dié wat rantsoenkaartjies gesteel het. As dit dan die aanklag teen ons is en hulle tel die tyd wat ons in Scheveningen deurgebring het by ons tyd hier, sal 1 September die datum van ons vrylating wees. “Corrie,” waarsku Betsie een aand toe ek triomfantelik aankondig dat die helfte
van Augustus al verby is, “ons weet nie vir seker wat sal gebeur nie.” Ek kry byna die gevoel dat dit vir Betsie nie saak maak nie. Ek kyk na haar waar sy op ons bed sit en ’n gebarste naat van my oorpak toewerk, net soos sy dikwels by die lamplig in die eetkamer my rokke heel gemaak het. Die eerste week wat ons hier was, het sy ekstra hakies aan haar oorpak se nek vasgewerk sodat sy die kraag hoog om haar nek kan toeknoop. Ek kry die gevoel sy is net so tevrede om hier in Vught uit die Bybel te kan lees vir dié wat dit nog nooit gehoor het nie as toe sy sop aan die honger mense in die portaal in die Beje uitgedeel het. Wat my betref, ek vestig my hoop elke dag al hoe meer op 1 September.
Op ’n dag lyk dit of ons nie eens so lank sal hoef te wag nie. Die Prinses Irenebrigade is volgens gerugte in Frankryk en beweeg in die rigting van België. Dié brigade is deel van die Hollandse magte wat tydens die Vyfdaagse Oorlog ontsnap het. Nou ruk hulle op om terug te eis wat aan hulle behoort. Die wagte is duidelik gespanne. Elke inspeksie is ’n marteling. Die bejaardes en siekes wat hulle plekke te stadig inneem, word ongenadig geslaan. Selfs die “rooilig-kommando” loop deur. Dié groep jong vroue is ’n bevoorregte groep gevangenes. Hulle is straatvroue wat nie weens hulle beroep in die tronk is nie, maar omdat hulle Duitse soldate met hulle siekte besmet het. Gewoonlik, in elk geval teenoor die manlike wagte, het hulle ’n vrypostige en lughartige stemtoon. Nou moet selfs hulle ure lank in reguit rye op aandag staan. Die geluid van die vuurpeloton word al hoe meer gehoor. Toe die klok eenkeer lui om ons ná middagete terug te roep werk toe, verskyn mev Floor nie by die bank langs myne nie. Dit neem my oë altyd ’n rukkie om ná die helder sonskyn buite weer by die dowwe baraklig aan te pas. Eers later merk ek op dat die stuk swart brood steeds by haar plek op die bank lê. Só leef ons tussen hoop en verskrikking terwyl die dae verbysleep. Ons leef op gerugte. Die brigade is oor die Hollandse grens. Die brigade is uitgewis. Die brigade het nooit eens daar aangekom nie. Vroue wat eers van ons fluistersagte gebedsbyeenkomste af weggebly het, drom nou om ons bed saam en dring aan op tekens en voorspellings uit die Bybel. Op die oggend van 1 September gee mev Floor geboorte aan ’n dogtertjie. Die
kind leef vier uur. Enkele dae later word ons wakker met die geluid van veraf ontploffings in ons ore. Lank voor die inspeksiefluitjie is almal reeds wakker en ons maal in die donkerte tussen die beddens rond. Is dit bomme? Geweervuur? Die brigade het sekerlik nou Brabant bereik. Miskien is hulle sommer vandag al in Vught. Die nors gesigte en dreigemente van die wagte toe hulle opdaag, skrik ons nie af nie. Elkeen se gedagtes is huiswaarts gekeer. Almal praat oor wat sy heel eerste gaan doen. “Die plante sal almal dood wees, maar ons sal steggies by Nollie kry,” sê Betsie. “Ons sal die vensters was sodat die son kan inskyn.” In die Phillips-fabriek probeer mnr Moorman ons kalmeer. “Dis nie bomme daardie nie,” sê hy. “Ook nie geweervuur nie. Dis vernietigingswerk. Duitsers. Hulle blaas waarskynlik brûe op. Dit beteken hulle verwag ’n aanval, maar nie dat dit reeds gebeur het nie. Dit kan dalk oor weke eers gebeur.” Ons opwinding word in ’n mate hierdeur gedemp, maar namate die ontploffings al hoe nader kom, kan niks ons hoop meer demp nie. Dit is nou so naby dat dit ore seermaak. Ons eet ons middagete binne met die deure en vensters toe. Dan werk ons weer ’n uur – altans, ons sit sommer net rond; niemand kan werk nie. Toe die bevel kom dat ons na die slaapkwartiere moet terugkeer, omhels die vroue die mans en bemindes wat langs hulle in die Phillips-fabriek werk met ’n skielike dringendheid. Betsie wag buite die barak vir my. “Corrie! Het die brigade gekom? Is ons vry?” “Nee, nog nie. Ek weet nie. Betsie, hoekom is ek skielik so bang?” Die luidspreker in die mans se kamp kondig ’n inspeksie aan. By ons kom daar nog geen bevel nie en ons slenter doelloos rond. Ons luister, maar weet nie eintlik na wat nie. Name weerklink oor die luidsprekers in die mans se kamp en ons luister, al weet ons dit is te ver om die name uit te ken. Skielik oorval ’n byna waansinnige vrees die wagtende vroue. ’n Doodse stilte hang oor albei kante van die kamp. Die luidsprekers is stil. Ons kyk sprakeloos na mekaar, amper te bang om asem te haal.
Toe skiet geweervuur die lug aan flarde. Rondom ons begin die vroue huil. ’n Tweede sarsie weerklink. Dan ’n derde. Twee uur lank duur die teregstellings voort. Iemand tel. Meer as sewe honderd mans sterf op dié dag. Daardie nag slaap ons maar min. Die volgende oggend is daar geen inspeksie nie. Om ongeveer sesuur beveel hulle ons om ons persoonlike besittings bymekaar te maak. Ek en Betsie sit ons goedjies in die kussingslope wat ons van Scheveningen af saamgebring het: tandeborsels, naald en gare, ’n botteltjie Davitamonolie wat in ’n Rooikruispakkie gekom het, Nollie se blou oortrektrui, die enigste besitting wat ons tien weke gelede uit die kwarantynkamp saamgebring het. Ek haal die Bybeltjie van Betsie se nek af en laat dit teen my rug afhang. Sy is so maer dat dit ’n duidelike knop tussen haar skouers maak. Ons marsjeer in rye na ’n stuk veld waar soldate komberse uitdeel. Toe ons verbytou, kry Betsie en ek twee sagte, nuwe komberse. Myne is wit met blou strepe, Betsie s’n wit met rooi strepe – duidelik die eiendom van die een of ander welgestelde gesin. Om ongeveer twaalfuur begin die uittog uit die kamp. Af in die kleurlose strate tussen die barakke loop ons, verby die bunkers, deur die doolhof van doringdraadkampongs en uiteindelik tot op die grondpad wat deur die woud kronkel, daar waar ons op die eerste reënerige nag in Junie geloop het. Betsie hang swaar aan my arm. Sy haal moeilik asem, soos gewoonlik wanneer sy ver moet loop. “Vinniger! Schnell! Looppas!” Ek glip my arm onder Betsie se arms deur en sleepdra haar die laaste vier honderd meter of meer. Uiteindelik hou die pad op en ons gaan staan in ’n ry met ons gesigte na die enkelspoor, meer as duisend vroue, toon teen hak. Verder weg staan ook die mans by die syspoor, maar dit is onmoontlik om enkelinge te herken tussen die kaalgeskeerde koppe wat in die herfsson blink. Eers dink ek ons trein het nie gekom nie, maar toe besef ek die goederewaens op die spoor is vir ons bedoel. Die mans word reeds met geweerlope aangehelp om oor die hoë kante te klim. Die lokomotief sien ons glad nie, net die ry Europese trokke met die groot wiele wat weerskante van ons tot buite ons sig in albei rigtings strek… en masjiengewere op gelyke afstande op die dakke gemonteer. Soldate kom met die spoor langs aangestap en gaan staan net lank genoeg langs
elke wa om die swaar glydeure oop te trek. Voor ons verskyn ’n gapende swart gat. Vroue begin vorentoe beur. Met ons komberse en kussingslope in ons hande vasgeklem, word ons saam met die ander voortgesleep. Betsie se bors dein steeds vreemd op en af nadat sy so vinnig moes loop. Ek moet haar oor die kant van die wa tel. Eers kan ek niks in die donker wa onderskei nie; dan sien ek in die een hoek ’n hoë ongelyke vorm. Dis ’n hoop brood, dosyne plat brode op mekaar gestapel. Dit gaan ’n lang reis wees… Die kleinerige wa word oorvol mense. Ons word teen die agterkant vasgedruk. Dertig tot veertig mense is al wat daar kan inpas, maar steeds dryf die soldate vroue tot in die wa. Hulle vloek en stamp met hulle geweerlope. Krete styg op uit die middel van die wa, maar nog vroue word ingedruk. Eers toe daar tagtig vroue in die wa gepak is, stamp hulle die deur toe en ons hoor hoe die grendels toegeskuif word. Vroue huil radeloos en baie word flou, maar ons is so styf teen mekaar vasgedruk dat hulle regop bly staan. Net toe dit begin lyk of dié in die middel óf sal versmoor óf doodgetrap gaan word, werk ons ’n soort stelsel uit. As jy halfsit en halflê met jou bene om die persoon voor jou, soos die lede van ’n sleespan, kry almal plek op die vloer van die wa. “Weet jy waaroor is ek dankbaar?” Betsie se sagte, vriendelike stem laat my skrik in die wriemelende malhuis rondom ons. “Dat Pappa vandag in die hemel is.” Pappa. Ja, o Pappa, hoe kon ek oor jou gehuil het? Die warm son skroei op die beweginglose trein neer, en die temperatuur in die volgepakte wa styg al hoe hoër. Die lug word onwelriekend en onsuiwer. Langs my pluk iemand aan ’n spyker in die stokou hout van die wa. Uiteindelik kom dit los en met die punt steek en krap sy in die gat om dit groter te maak. Ander teen die kante van die wa snap wat sy doen en sommer gou begin wonderbaarlike lug van buite tussen ons invloei. Ure later ruk die trein skielik en begin beweeg. Byna dadelik staan dit egter weer, en kruip dan langsaam vorentoe. Die res van die dag en tot in die nag gaan dit so aan. Ons hou stil, begin beweeg, steek vas, ruk… Toe dit weer my beurt by
’n luggaatjie is, sien ek spoorwegwerkers in die maanlig wat ’n stuk verwronge spoorstaaf dra. Die spore vorentoe moet vernietig wees. Ek stuur die nuus aan. Miskien kan hulle die spore nie regkry nie. Miskien is ons nog in Holland wanneer die uur van bevryding kom. Betsie se voorkop is vuurwarm onder my hand. Die “rooilig”-meisie tussen wie se bene ek ingewig sit, druk haarself nog meer inmekaar sodat Betsie amper plat oor my skoot kan lê. Ek sluimer telkens in met my kop op die skouer van die vriendelike meisie agter ons. Ek droom daar is ’n storm. Ek kan die haelstene teen tannie Jans se voorste vensters hoor vasslaan. Ek maak my oë oop. Dit hael werklik. Ek hoor die haelkorrels teen die kant van die wa klap. Almal is wakker en aan die praat. Nog ’n klomp haelkorrels kletter neer. Dan hoor ons die geblaf van masjiengewere van die trein se dak af. “Dis koeëls!” skreeu iemand. “Hulle val die trein aan!” Weer hoor ons die korrels teen die kante vasslaan en die masjiengewere wat antwoord. Het die brigade ons uiteindelik bereik? Die skote sterf weg. ’n Hele uur staan die trein net waar hy is. Dan kruip ons weer stadig vorentoe. Teen dagbreek roep iemand uit dat ons deur die grensdorp, Emmerich, gaan. Ons het in Duitsland aangekom.
13
Ravensbruck
Nog twee dae en nagte word ons al hoe dieper in die land van vrees ingeneem. Af en toe word ’n brood van hand tot hand aangegee. Maar nie eens die mees elementêre voorsorg is vir sanitasie gemaak nie. Die lug in die wa is so afgryslik dat min van ons kan eet. Geleidelik, nog aakliger as ons lywe wat vasgedruk word en al hoe smeriger raak, groei een enkele obsessie in ons: iets om te drink. Twee of drie keer wanneer die trein tot stilstand kom, word die deur ’n entjie oopgeskuif en ’n emmer water na binne gestoot. Maar ons het diere geword, sonder plan en sonder stelsel. Die vroue naby die deur kry alles. Uiteindelik, die oggend van die vierde dag, gaan staan die trein weer en die deur word heeltemal oopgeskuif. Soos kinders kruip ons op ons hande en voete na die opening en sak oor die rand af. Voor ons lê ’n pragtige blou meer. Aan die oorkant, tussen esdoringbome, steek ’n wit kerktoring uit. Die sterker gevangenes gaan skep emmers vol water uit die meer. Ons drink met gebarste en geswelde lippe. Die trein is nou korter; die waens waarin die mans was, het verdwyn. Net ’n handvol soldate, sommige skaars ouer as vyftien, is daar om duisend vroue op te pas. Daar is nie meer soldate nodig nie. Ons kan skaars loop, wat nog te sê ons teësit. Ná ’n rukkie kry hulle ons in slordige, skewe, tam rye ingedeel en laat ons van daar af wegmarsjeer. ’n Kilometer en ’n half kronkel die pad met die oewer van die meer langs en swenk dan weg teen ’n rant op. Ek wonder of Betsie bo sal uitkom, maar die gesig van bome en blou lug het haar skynbaar verkwik en sy ondersteun my net soveel soos ek vir haar. Ons gaan by ’n paar plaaslike mense verby, party te voet en ander op perdewaentjies. Veral die kinders lyk vir my so gesond met hulle rosige wange. Hulle staar met wye en belangstellende oë na
my. Ek merk egter op dat die volwassenes nie na ons kyk nie; hulle draai hulle oë weg wanneer ons naderkom. Vanaf die kruin van die heuwel sien ons dit – ’n reusagtige litteken op die groen Duitse landskap. ’n Stad met plat, grys barakke omring deur betonmure waarop wagtorings eweredig van mekaar af verrys. Presies in die middel laat ’n vierkantige skoorsteen dun grys rook die blou lug in trek. “Ravensbruck! “ Soos ’n gefluisterde vloek versprei die woord van voor tot agter in die lang rye. Die berugte uitdelgingskamp vir vroue waarvan ons selfs in Haarlem gehoor het. Die plat betongebou, die rook wat in die helder sonlig verdwyn… Nee! Ek wil nie daarna kyk nie! Toe ek en Betsie teen die heuwel af strompel, voel ek hoe die Bybel tussen my skouerblaaie stamp. God se goeie nuus. Is dit aan hierdie wêreld dat Hy dit bekendgemaak het? Ons is nou naby genoeg om die skedel en gekruisde bene te sien wat op gelyke afstande teen die muur aangebring is om te waarsku teen die geëlektrifiseerde drade op die muur. Die massiewe ysterhekke swaai na binne oop en ons stap deur. Oor ’n groot oppervlak strek vuil rookswart barakke uit. Net binne die muur is ’n ry krane so hoog soos ’n mens se middellyf. Ons storm daarop af en steek hande, voete en selfs koppe onder die waterstrome in om die afgryse en vieslikheid van die spoorwegwaens af te spoel. ’n Afdeling vrouewagte in donkerblou uniforms storm op ons af. Hulle skreeu en ruk en pluk en swaai hulle kort, harde karwatse. Uiteindelik kry hulle ons van die krane af weg en dryf ons verder weg in ’n laan tussen die barakke af. Dié kamp lyk meer onverbiddelik as die een wat ons verlaat het. In Vught kon ons ten minste die veld en woud sien. Hier eindig die uitsig telkens teen dieselfde betonversperring. Die kamp is opgerig in ’n groot mensgemaakte vallei wat aan elke kant oprys tot by die geweldig hoë mure met draad wat al op die kruin langs uittoring. Uiteindelik bring hulle ons tot stilstand. Voor ons is ’n geweldige groot seiltent met ’n dak en oop sye. Daar is ’n groot ruimte waarop strooi uitgegooi is. Ek en Betsie kry ’n plek teen die kant en gaan dankbaar sit, maar onmiddellik spring ons weer op. Luise! Die strooi wemel letterlik van die luise. Ons staan ’n rukkie en klou aan ons komberse en kussingslope, hou dit ver weg van die besmette
grond. Maar uiteindelik gooi ons tog ons komberse oor die krioelende strooi en gaan sit. Party van die gevangenes het skêre van Vught af saamgebring. Oral in die groot tent begin vroue mekaar se hare afknip. ’n Skêr word vir ons aangegee. Natuurlik moet ons dieselfde doen. Lang hare in dié plek sal gekheid wees. Maar terwyl ek Betsie se lang kastaiingbruin krulle afknip, huil ek. Teen die aand is daar ’n opskudding aan die een kant van die tent. ’n Ry SSwagte beweeg deur die tent en dryf al die vroue onder die seil uit. Ons kom op ons voete en gryp ons komberse toe hulle op ons afpeil. Omtrent honderd tree van die tent af hou die agtervolging op. Ons staan rond, onseker oor wat ons moet doen. Of daar ’n nuwe groep gevangenes opgedaag het, of hoekom hulle ons uit die tent verdryf het, weet ons nie. Die vroue begin hulle komberse op die harde steenkoolgrond oopgooi. Stadig word dit vir my en Betsie duidelik dat ons die aand gaan slaap net daar waar ons staan. Ons gooi my kombers op die grond oop, gaan lê styf teen mekaar en trek haar kombers bo-oor ons. “Lei, vriend’lik’ Lig, deur aardse duisternis…” Betsie se soet sopraanstem dwing ander rondom ons om saam te sing. “… lei U my voort!” Iewers in die nag maak donderslae en gietende reën ons wakker. Die komberse is deurweek en water versamel in poele onder ons. Die volgende oggend is die veld een deurweekte moeras, en ons hande, klere en gesigte swart van die steenkoolmodder. Ons wring steeds water uit ons komberse toe die bevel kom om in te val vir koffie. Koffie is dit beslis nie, maar ’n dun vloeistof met ongeveer dieselfde kleur as koffie. Ons is egter maar te dankbaar vir iets om te drink en ons skuifel in dubbelrye by die veldkombuis verby. Vir elke gevangene is daar ook ’n sny swart brood. Daarna kry ons niks weer nie, eers laatmiddag ’n soplepel vol raapsop en ’n klein gekookte aartappel. Intussen moet ons stokstyf op aandag staan op die sopnat, smerige paradegrond waar ons die vorige nag geslaap het. Ons is naby aan die een kant van die groot kamp, naby genoeg aan die buitenste muur om die driedubbele ry elektriese drade te sien wat bo-op die muur langs loop. Twee hele dae bring ons só deur. Ook die tweede nag gaan lê ons net daar waar ons staan. Die tweede nag reën dit nie weer nie, maar die grond én ons komberse is nog klam. Betsie begin hoes. Ek
haal Nollie se blou oortrektrui uit my kussingsloop, vou dit om haar en gee haar ’n paar druppels vitamienolie. Teen die oggend het sy die pynlikste maagkrampe. Weer en weer deur die tweede dag heen moet sy vir die ongeduldige opsigter vra vir toestemming om na die sloot te gaan wat as toilet dien. Die derde aand, toe ons gereedmaak om sommer so onder die oop lug te gaan lê, kom die bevel om by die sentrum vir alle nuwe aankomelinge aan te meld. Tien minute se stap bring ons by die gebou. Ons gaan tree vir tree in ’n gang af tot in ’n groot ontvangskamer. Daar onder die skerp plafonligte wag die afgryslikste toneel vir ons. Wanneer ’n vrou kom by ’n lessenaar waar ’n paar offisiere sit, moet sy haar komberse, kussingslope, alles wat sy by haar het, gooi op ’n hoop wat groei en groei. ’n Paar banke verder moet sy elke stukkie klere uittrek, op ’n tweede hoop gooi en kaal voor die oë van SS-soldate verbystap na die storte toe. Wanneer sy by die stort uitkom, dra sy net ’n dun tronkrok en ’n paar skoene. Niks meer nie. Maar Betsie het die oortrektrui nodig! Sy het die vitamienolie nodig! En die heel belangrikste, ons het ons Bybel nodig! Hoe kan ons hier sonder ons Bybel leef? Ons is byna by die eerste lessenaar. Ek voel-voel desperaat in my sloop en maak my hand om die bottel vitamienolie toe. Teensinnig laat ons die ander goed val op die hoop wat nou vinnig ’n berg word. “Here,” bid ek, “U het vir ons die kosbare Boek gegee. U het dit versteek gehou deur kontrolepunte en inspeksies heen. U het dit gebruik vir so baie…” Ek voel hoe Betsie teen my steier en kyk verskrik na haar. Haar gesig is spierwit, haar lippe op mekaar geklem. ’n Wag stap verby. Ek vra hom in Duits om vir my te wys waar die toilette is. Sonder om na my te kyk, ruk hy sy kop in die rigting van die storte. Bang beweeg ek en Betsie uit die ry vroue en stap na die deur van die badkamer met ry op ry hoë stortkoppe. Dis leeg en wag op die volgende vyftig kaal, bewende vroue om in te kom. “Asseblief,” vra ek vir die SS-soldaat wat die deur bewaak. “Waar is die toilette?” Ook hy kyk nie na my nie. “Gebruik die afvoerpype,” snou hy ons kortaf toe. Toe ons instap, slaan hy die deur agter ons toe. Ons staan alleen in die kamer waarheen ons oor ’n paar minute sal terugkeer, heeltemal kaal. Ons sien die
tronkdrag wat ons sal aantrek op ’n hoop net binnekant die deur lê. Uit die vooren agterkant van ’n andersins doodgewone rok is ’n groot X geknip en toe met materiaal van ’n ander kleur vervang. Toe sien ons iets anders raak. In die hoek opmekaargestapel, staan ’n hoop ou houtbanke. Hulle is slymerig van die skimmel en vol kakkerlakke, maar vir my is hulle hemelse meubels. “Die trui! Trek uit die trui!” sis ek en vroetel aan die toutjie om my nek. Betsie gee die oortrektrui vir my aan en binne ’n oogwink draai ek die Bybel en die bottel vitamienstroop daarin toe en stop die kosbare bondeltjie agter die banke in. Toe ons tien minute later by daardie kamer ingejaag word, is ons dus nie arm nie maar ryk. Ryk in die getuienis van die sorg van die Een wat steeds God is, selfs in Ravensbruck. Ons staan onder die storte solank die ysige water aanhou vloei en ons luisgevrete velle weer sag maak. Toe drom ons papnat om die hoop tronkrokke saam en probeer een vind wat naastenby pas. Ek kry ’n losserige langmourok vir Betsie wat die blou trui sal bedek as sy die kans sou kry om dit aan te trek. Ek wurm ook in ’n rok in, vat dan die bondeltjie agter die banke raak en stoot dit vinnig voor by my rok se hals in. Dit maak ’n bult wat jy oor die hele Grote Markt heen sal kan sien, maar ek druk dit so plat moontlik. Nog laer af. Ek probeer die trui om my lyf draai, maar om dit werklik onder die katoenrok te verberg is net onmoontlik. Die hele tyd kry ek die ongelooflike gevoel dat dit eintlik nie saak maak nie, dat dit nie my stryd is dié nie, maar God s’n. Al wat ek moet doen, is om reguit aan te loop. Toe ons by stortkamer uitstap, voel die SS met hulle hande oor elke vrou se liggaam, voor, agter en aan die kante. Die vrou voor my word drie keer deursoek. Agter my word Betsie deursoek. Op my lê niemand ’n hand nie. By die uitgang van die gebou kom die tweede beproewing. ’n Streep wagte ondersoek weer elke gevangene. Ek loop stadiger toe ek naby aan die wagte kom, maar die Aufseherin in bevel stamp my hard aan my skouers vorentoe. “Aanstap! Jy hou die hele ry op!” Ek en Betsie kom in die vroeë oggendure by barak 8 aan, nie net met die Bybel
nie, maar ook met nuwe kennis van die mag van die Een wie se verhaal dit is. Drie vroue lê reeds en slaap op die bed wat aan ons toegesê word. Hulle skuif so ver moontlik op om vir ons plek te maak, maar die matras lê heeltemal skuins en ek val aanmekaar af. Uiteindelik lê al vyf van ons dwars oor die matras en slaag daarin om skouers en elmboë reg te rangskik. Die kombers is ’n armsalige verslete stuk lap in vergelyking met dié wat ons moes ingee, maar die baie mense in een bed bring sy eie warmte. Betsie trek die blou trui onder haar langmourok aan. Vasgedruk tussen my en die ander hou sy later tog op met bewe en raak aan die slaap. Ek lê nog ’n ruk wakker en hou ’n soeklig dop wat met sy straal aanhoudend oor die agterste muur vee. Veraf hoor ek die geroep van soldate wat die mure patrolleer…
Die oggendinspeksie by Ravensbruck is nog ’n halfuur vroeër as by Vught. Teen halfvyf moet ons al buite in die pikdonkerte en ysige lug staan – op parade en op aandag in blokke van honderd vroue, tien by tien. Ná ’n ure lange inspeksie kom ons dikwels net mooi by die beskerming van die barakke aan wanneer ons weer die fluit hoor. “Almal uit! Val in vir inspeksie!” Barak 8 is in die kwarantynkamp. Langs ons – dalk as ’n opsetlike waarskuwing aan nuwelinge – is die strafbarakke. Vanuit hierdie barakke, die hele dag lank en dikwels tot diep in die nag, kom die geluide van die hel self. Nie geluide van woede of menslike emosie nie, maar van ’n afgetrokke wreedheid: houe wat met gereelde ritme val, en met elke hou ’n gil van pyn. Ons staan in ons rye van tien lank en tien breed met ons hande wat langs ons sye bewe, terwyl ons eintlik net smag om ons hande oor ons ore te druk en die geluide uit te sluit. So gou die parade ontbind word, pak ons saam by die deur van barak 8 en trap op mekaar se hakke in ons gretigheid om in te gaan en die wêreld na verstaanbare afmetings te laat krimp. Dit word egter al hoe moeiliker. Selfs binne dié vier mure is daar te veel ellende, te veel redelose lyding. Elke dag is daar iets anders wat net nie sin maak nie, iets anders wat te swaar word. “Sal U dít ook dra, Here Jesus?” bid ek. Maar namate die res van die wêreld al hoe vreemder word, word een ding vir my en Betsie al hoe duideliker – die rede waarom ons twee hier is. Waarom ander
moet ly, dit weet ons nie, maar wat ons betref – vanaf die oggend totdat die ligte afgeskakel word en wanneer ons nie in gelid staan of moet loop nie – is ons Bybel die middelpunt van ’n steeds groeiende kring van hulp en hoop. Soos verwaarloosdes en dakloses om ’n brandende vuur saamdrom, drom ons om die Bybel saam. Ons hou ons harte uit na God se warmte en lig. Hoe swarter die nag om ons raak, hoe meer vlam die Woord van God wonderskoon en helder op. “Wie sal ons van die liefde van Christus skei? Verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? … Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.” Ek kyk op terwyl Betsie lees. Ek sien hoe die lig van gesig tot gesig spring. Meer as oorwinnaars. Dis nie ’n wens nie. Dis ’n feit, ’n waarheid. Ons weet dit; ons ervaar dit elke oomblik – arm, gehaat, honger. Ons is meer as oorwinnaars. Nie ons “sal” oorwinnaars wees nie. Ons ís oorwinnaars! Die lewe in Ravensbruck speel op twee afsonderlike vlakke af, albei ewe onbegryplik. Die een lewe, waarneembaar, uiterlik, word elke dag afgrysliker. Die ander, ons lewe saam met God, word elke dag beter. Waarheid op waarheid, heerlikheid op heerlikheid! Soms haal ek die Bybel uit die sakkie met hande wat bewe, so geheimsinnig het dit alles vir my geword. Dit is nuut, so pas geskryf. Ek staan soms verwonderd dat die ink droog is. Ek het nog altyd in die Bybel geglo, maar om dit nou te lees het niks met geloof te doen nie. Dis eenvoudig ’n beskrywing van hoe dinge is – die hel en die hemel, mense se optrede en God se optrede. Ek het al duisend maal die verhaal gelees van die aand toe Jesus gevange geneem is, hoe die soldate Hom geslaan, uitgelag en gegesel het. Nou kry hierdie gebeurtenisse egter gesigte en stemme. Elke Vrydag is daar opnuut die vernedering van die mediese inspeksie. Die hospitaalgang waar ons wag, is yskoud. Die herfskoue kleef aan die mure vas. Tog word ons verbied om selfs ons eie arms om ons te vou. Ons moet penregop sit met ons hande langs ons sye terwyl ons stadig in ’n ry by ’n falanks grinnikende wagte verbybeweeg. Hoe hulle enige plesier kan vind in stokdun bene en mae opgeswel van die honger, kan ek my nie indink nie. Daar is tog sekerlik nie ’n ellendiger gesig as ’n mens se liggaam sonder enige liefde en sorg nie.
Net so min kan ek die rede insien waarom ons al ons klere moet uittrek. Wanneer ons uiteindelik die ondersoekkamer bereik, kyk ’n dokter in ons keel af, ’n ander een – waarskynlik ’n tandarts – kyk na ons tande, en ’n derde kyk tussen ons vingers. Dis al. Ons stap dan maar weer in die lang, koue gang af en tel ons rokke met die X’e daarop van die vloer af op. Dis juis een oggend terwyl ons bewend in die koue gang staan en wag dat nog ’n gedeelte in die Bybel vir my lewend word. Jesus het naak aan die kruis gehang. Ek het nie geweet nie… Ek het nie gedink nie… Die skilderye, die hout kruisbeelde wys almal ’n stukkie kleed. Maar dít, weet ek nou skielik, is uit respek deur die kunstenaar bygevoeg. Op ’n ander tyd, ook ’n Vrydagoggend, was daar egter geen eerbied nie. Niks meer as wat ek nou in die gesigte rondom my sien nie. Ek leun oor na Betsie toe wat voor my in die ry staan. Haar skouerblaaie steek skerp en dun onder haar blougevlekte vel uit. “Betsie, hulle het sý klere ook gevat.” Voor my hoor ek hoe sy na asem snak. “O Corrie, en ek het nog nooit vir Hom dankie gesê nie…”
Elke dag kom die son ’n bietjie later op en die byt bly langer in die lug. Dit sal beter wees, verseker ons mekaar, as ons eers in permanente barakke is. Ons elkeen sal ’n kombers hê. Elkeen ’n eie bed. Elkeen kleur die prentjie volgens haar eie behoeftes in. Vir my is dit ’n apteek waar Betsie medisyne vir haar hoes kan kry. “Daar sal ’n verpleegster vir die barakke aangewys word,” sê ek so dikwels dat ek selfs myself oortuig. Elke oggend drup ek ’n druppel Davitamon op Betsie se swart brood, maar hoeveel langer kan die bottel hou? “Veral as jy daarvan uitdeel elke keer as iemand nies,” sê ek vir haar. Die verskuiwing na ’n permanente barak kom in die tweede week van Oktober. Ons marsjeer in gelid daarheen, tien-tien langs mekaar. Ons stap in ’n breë laan
af en draai dan in ’n nouer straat tussen barakke af. Verskeie kere kom die kolom tot stilstand terwyl nommers uitgelees word. Name word nooit in Ravensbruck gebruik nie. Uiteindelik word my en Betsie se nommers uitgeroep: “Gevangene 66729. Gevangene 66730.” Ons stap saam met tientalle ander uit die ry en staar na die lang, grys voorkant van barak 28. Die helfte van die vensters is stukkend en met lappe toegestop. ’n Deur in die middel lei na ’n groot kamer waar twee honderd of meer vroue se koppe oor breinaalde gebuig is. Op die tafels tussen hulle lê hope wolkouse met die vaal kleur van die leër. Aan albei kante lei deure na nog twee groter kamers, verreweg die grootste slaapkwartiere wat ons nog gesien het. Ek en Betsie volg die leier deur die deur aan die regterkant. Weens al die toegestopte ruite is die reusagtige kamer in skemerte gehul. Ons neuse sê heel eerste vir ons dat die plek vuil is. Iewers het die rioolstelsel verstop geraak en die beddegoed is besmeer en ruik suur. Toe ons oë uiteindelik by die skemerlig aanpas, sien ons daar is glad nie individuele beddens nie, maar net groot vierkantige platforms wat drie-drie op mekaar gestapel is. Die platforms is styf teen mekaar vasgedruk met net hier en daar ’n nou gangetjie tussen hulle. Ons volg ons gids een op ’n slag, want die gangetjie is nie wyd genoeg vir twee mense nie. Ons veg teen die engtevrees wat die hoë platforms rondom ons veroorsaak. Die yslike kamer is feitlik leeg; die mense wat hier woon het seker hulle werk gaan doen. Uiteindelik wys die vrou na ’n platform bokant die een op die grond, die middelste een van ’n hoë blok. Om dit te kan bereik, moet ons op die onderste vlak staan, onsself ophys en dan oor drie ander strooibedekte platforms kruip om die een te bereik wat ons gaan deel… met hoeveel ander? Die platform bokant ons is so naby dat ons nie kan regop sit nie. Ons lê doodstil op ons rûe en veg teen die groot naarheid wat die stinkende strooi veroorsaak. Ons kan hoor hoe die vroue wat saam met ons daar aangekom het ook hulle plekke vind. Skielik sit ek vinnig regop en stamp my kop teen die dwarslatte bokant my. Iets het my aan my been gebyt. “Vlooie!” skree ek. “Betsie, dit wemel van die vlooie!” Ons klouter oor die platforms, hou ons koppe laag om dit nie weer te stamp nie en kom in die paadjie te land. Ons skuifel tot by ’n ligkol.
“Kyk hier! En hier’s nog een!” roep ek uit. “Betsie, hoe kan ons in so ’n plek leef?” “Wys ons. Wys ons hoe.” Sy sê dit op so ’n doodgewone manier dat dit my ’n tydjie kos om agter te kom sy bid. Die onderskeid tussen gebed en die res van die lewe verdwyn al hoe meer vir Betsie. “Corrie!” sê sy opgewonde. “Hy het die antwoord vir ons gegee! Selfs voordat ons gevra het, soos Hy altyd doen! In die Bybel vanoggend. Wat het ons gelees? Lees dit weer.” Ek kyk in die lang, nou gangetjie af om seker te maak daar is nie ’n wag naby nie en haal die Bybel uit sy sakkie. “Dit was in 1 Tessalonisense,” sê ek. Dis die derde maal dat ons die Nuwe Testament lees sedert ons Scheveningen verlaat het. In die swak lig blaai ek die bladsye om. “Hier is dit… ‘Bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees geduldig met almal. Sorg dat niemand ’n ander kwaad met kwaad vergeld nie; maar jaag altyd na wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal…’ Dit lyk of dit spesiaal vir Ravensbruck geskryf is.” “Gaan aan,” sê Betsie, “dit was nie al nie.” “Ja, ek weet. ‘… teenoor mekaar sowel as teenoor almal. Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus vir julle.’” “Daar is dit, Corrie! Dis die Here se antwoord. Wees in alles dankbaar! Dis wat ons kan doen. Ons kan op hierdie plek begin om vir God dankie te sê vir elke enkele ding in hierdie nuwe barak.” Ek kyk na haar, en dan rondom my na die donker kamer met sy vuil lug. “Soos?” vra ek. “Soos dat ons saam hier is.” Ek byt my lip vas. “O ja, Here Jesus!” “Soos vir die Boek wat jy daar in jou hande vashou.”
Ek kyk af na die Bybel. “Ja! Dankie, liewe Heer, dat daar geen inspeksie was toe ons hier ingekom het nie. Dankie vir al die vroue in hierdie kamer wat U in dié bladsye sal ontmoet.” “Ja,” sê Betsie, “dankie dat dit so oorvol is hier. Omdat die plek so stampvol is, is daar meer wat van U sal hoor.” Sy kyk vol verwagting na my. “Toe, Corrie,” por sy my aan. “Nou goed. Ek sê vir U dankie vir die propvol, stampvol, stikvol, oorlopens toe vol kamer vol versmorende mense.” “Dankie, Heer,” gaan Betsie kalm voort, “vir die vlooie en vir…” Die vlooie! Dis darem net te erg. “Betsie, nie eens God sal my dankbaar kan maak vir ’n vlooi nie.” “Wees in alles dankbaar,” haal sy aan. “Die Bybel sê nie ‘in party situasies’ nie. Vlooie is ’n deel van dié plek waar God ons geplaas het.” So staan ons toe daar tussen die opgestapelde slaapplekke en sê dankie vir die vlooie. Maar hierdie keer is ek seker Betsie is verkeerd.
Hulle begin kort ná sesuur die aand aankom, die vroue van barak 28. Moeg, sweetbevlek en vuil van die dwangarbeid. Die gebou, hoor ons by een van ons platformgenote, is vir vier honderd mense ontwerp. Daar is nou veertien honderd vroue wat hier bly, en nog meer wat elke week opdaag namate die konsentrasiekampe in Pole, Frankryk, België, Oostenryk en Holland ontruim word. Nege van ons deel ons vierkant wat maar vir vier mense ontwerp is. Party brom toe hulle ontdek hulle moet vir my en Betsie plek maak. Die hele kamer saam gebruik agt toilette wat skerp ruik en reeds oorvloei. Om by ’n toilet uit te kom moet ons nie net oor ons bedmaats klim nie, maar ook oor dié op die platform tussen ons en die naaste gangetjie. Altyd is daar die gevaar dat te veel gewig die latte, wat reeds buig en sak, sal laat breek en ons op die mense onder ons sal val. Dit gebeur dan ook verskeie kere in daardie eerste nag. Iewers in die barak hoor jy hout breek, ’n kreet en dan gesmoorde gille.
Selfs as die latte hou, stuur die geringste beweging op die boonste platform ’n wolk stof en strooi af op dié wat onder slaap. Dit word gevolg deur ’n stroom vloeke. In barak 8 was die meeste van ons Hollanders. Hiér is daar nie eens ’n gemeenskaplike taal nie en tussen moeë, honger mense breek daar die hele tyd rusies uit. Een van die vroue wat naby aan die vensters slaap, klap dit toe teen die koue. Dadelik eis tientalle stemme dat sy die vensters weer moet oopmaak. Sy weier. ’n Hewige rusie bars op verskeie plekke aan daardie kant van die barak los. Ons hoor die gestoei, klappe en gehuil. In die donker voel ek Betsie se hand myne vasvat. “Here Jesus,” sê sy hardop, “stuur u vrede na dié kamer. Hier word te min gebid. Die mure self weet dit. Maar as U hierheen kom, o Heer, kan die gesindheid van verdeeldheid nie meer bestaan nie…” “Ek sal met jou ruil!” sê ’n stem in Duits met ’n sterk Skandinawiese aksent. “Jy kan hier slaap waar dit warmer is en dan slaap ek op jou plek by die venster.” “En dan jou vlooie by myne kry? Nee dankie!” Maar ons hoor ’n onderdrukte laggie in die antwoord. “Ek sê jou wat!” antwoord ’n derde stem met ’n Franse bry-r. “Ons maak die vensters halfpad oop. Dan sal ons net halfverkluim wees en julle net halfversmoor.” ’n Geskater golf al hoe wyer uit. Ek gaan lê gemakliker op die suur strooi en weet daar is een waarheid waarvoor ek kan dankie sê: Betsie het by barak 28 uitgekom.
Inspeksie is om halfvyf, net soos in die kwarantynkamp. ’n Fluitjie maak ons om vieruur wakker. Sonder om eers die strooi uit ons hare en klere te skud, storm ons af op die rantsoen brood en koffie in die middelste kamer. Dié wat laat kom, kry niks nie. Die inspeksie word in Lagerstrasse gehou, die wye laan wat na die hospitaal lei. Daar sluit ons by die bewoners van die ander barakke aan. Daar is nou ongeveer 35 000 vroue wat in die bleek lig van die straatlampe uitstrek totdat hulle in die
verte verdwyn. Op die koue sintelgrond word ons voete yskoud. Ná die inspeksie word die werkspanne uitgeroep. Weke lank word ek en Betsie na die Siemens-fabriek gestuur. Die groot kompleks met meule en spoorwegeindpunte is ongeveer twee kilometer van die kamp af. Die “Siemensbrigade”, etlike duisende van ons, marsjeer deur die ysterhek en onder die geëlektrifiseerde drade deur tot in ’n wêreld van gras en bome en horisonne. Die son kom op wanneer ons oor die rand van die meer stap, en die goue kleure van die laatherfs maak ons harte lig. Die werk by Siemens is egter louter ellende. Ek en Betsie moet ’n swaar handkar stoot na die spoorwegsylyn, waar ons dan groot metaalplate van ’n wa aflaai en dit terugstoot na die ontvangshek van die fabriek. Die moordende werkdag is elf uur lank. Genadiglik kry ons vir middagete ’n gekookte aartappel en ’n bietjie dun sop. Dié wat in die kamp werk, kry glad nie middagete nie. Op pad terug kamp toe kan ons skaars ons seer en geswelde bene optel. Die soldate wat in beheer van ons groep is, brul en vloek, maar ons beweeg bitter stadig vorentoe. Ek merk weer op hoe die plaaslike mense hulle oë van ons af wegdraai. Terug by die barakke staan ons eers weer in ’n ry. Sal daar dan nooit ’n einde aan die gewag kom nie? Ons kry ons soplepel vol raapsop. So gou ons uit die gedrang kan wegkom, loop ons na die agterste gedeelte van die slaapkwartiere om daar ons godsdiensbyeenkoms te hou. By ons eie platform is daar nie genoeg lig om die Bybel te lees nie, maar hier agter gooi ’n gloeilampie ’n bleek kring teen die muur. Die groep vroue wat daar bymekaarkom, groei elke dag. Dié dienste in barak 28 is heeltemal anders as enige ander bidure. By die een byeenkoms sê ’n groep Rooms-Katolieke die Magnificat in Latyn op; ander kere fluister-sing ’n klompie Lutherane of Oos-Ortodokse vroue ’n lied. Elke dag groei die groep vroue rondom ons en pak op die naburige platforms saam totdat die hoë strukture kreun en dreig om te breek. Uiteindelik maak óf ek óf Betsie die Bybel oop. Omdat slegs die Hollanders die Hollandse Bybel kan verstaan, vertaal ons dit hardop in Duits. Ons hoor hoe die lewegewende woorde aangestuur word in Pools, Russies, Tsjeggies en dan weer in Hollands. Dié aande onder die gloeilampie is visioene van die hemel. Ek dink
so dikwels aan Haarlem, waar elke selfstandige kerk agter sy smeeysterheining en sy versperring van dogma staan. Dan weet ek opnuut dat God se waarheid in die duisternis die helderste skyn. Eers hou ek en Betsie die byeenkomste met groot omsigtigheid, maar toe aand ná aand verbygaan en geen wag ooit naby aan ons kom nie, word ons dapperder. So baie wil by ons aansluit dat ons ’n tweede byeenkoms ná die aandinspeksie hou. In Lagerstrasse is ons onder die strengste toesig. Die wagte marsjeer die hele tyd op en af met hulle wolmantels om hulle warm te hou. Dieselfde gebeur in die sentrale kamer van die barak. Tientalle wagte of die kamppolisie is altyd teenwoordig. Tog is daar in die groot slaapsaal byna geen toesig nie. Ons kan dit nie verstaan nie. Die rede sou ons eers later uitvind.
Nog iets eienaardigs gebeur. Die Davitamonbottel hou aan druppels gee. Dit lyk vir my heeltemal onmoontlik dat so ’n klein botteltjie soveel dosisse op een dag kan gee sonder om op te raak. Buiten Betsie gebruik nog tientalle ander op ons platform die olie. Instinktief probeer ek dit altyd spaar. Betsie is besig om so swak te word. Maar daar is ook ander wat siek is. Dis moeilik om nee te sê vir oë wat gloei van die koors en hande wat bewe van die koue. Ek probeer die olie slegs vir die heel siekes spaar, maar selfs hulle is gou vyftien, twintig, vyf en twintig… En tog, elke keer wanneer ek die botteltjie skuins hou, verskyn daar ’n druppel aan die punt van die glaspypie. Dit kan nie wees nie! Ek hou die bottel teen die lig op en probeer kyk hoeveel daar nog oor is, maar die donkerbruin glas is te dik om deur te sien. “Daar was ’n vrou in die Bybel wie se oliekruik nooit leeg geword het nie,” sê Betsie. Sy blaai na 1 Konings en begin lees die storie van die arm weduwee van Sarfat wat vir Elia ’n kamer in haar huis gegee het: “… die meel in die kruik het nie opgeraak nie en die olie in die kan het nie minder geword nie, volgens die woord van die Here wat Hy deur Elia gespreek het.” Wonderwerke gebeur deur die hele Bybel heen, weet ek. Dis egter een ding om te glo dat sulke wonders duisende jare gelede moontlik was, maar iets heeltemal anders om te glo dit gebeur nou, op hierdie oomblik, met ons. Maar vandag, die volgende dag en die dag daarna staan ’n groepie vroue vol ontsag rondom ons en
kyk hoe die druppels op die daaglikse rantsoen brood val. Baie nagte lê ek in die wolk strooistof van die matras bokant my en probeer die wonder van die voorraad wat met so ’n milde hand aan ons gegee is, verstaan. “Miskien,” sê ek vir Betsie, “kom daar net ’n molekuul of twee deur daardie klein speldpuntgaatjie en sit uit wanneer dit met lug in aanraking kom.” Ek hoor haar saggies in die donker lag. “Moenie te hard probeer om dit te verklaar nie, Corrie. Aanvaar dit maar net as ’n verrassing van die Vader wat jou liefhet.” Op ’n dag stoot Mien haar pad na ons toe oop terwyl ons in die ry vir ons aandkos staan. “Kyk wat het ek vir julle!” Mien is ’n baie mooi Hollandse meisie wat ons in Vught ontmoet het. Sy werk in die hospitaal en kry dit dikwels reg om die een of ander waardevolle item in die personeelkamer vas te lê en na barak 28 te bring: ’n bladsy uit ’n koerant om in ’n stukkende venster toe te stop, of ’n sny brood wat onaangeraak op ’n verpleegster se bord bly lê het. Ons kyk in die lapsakkie wat sy dra. “Vitamientablette!” roep ek uit en kyk dan bevrees na ’n konstabel naby aan my. “Brouersgis,” fluister ek dan. “Ja,” fluister sy terug, “daar was ’n hele paar groot flesse. Ek het presies eweveel uit elkeen gehaal.” Ons sluk die dun raapwater, vol verwondering oor ons nuwe rykdom. “Maar ons gaan eers die druppels opgebruik,” besluit ek. Daardie aand, hoe lank ek ook al die botteltjie onderstebo hou of hoe hard ek dit ook al skud, daar kom nie weer ’n enkele druppeltjie uit nie.
Op 1 November kry elke gevangene ’n jas. My jas en Betsie s’n is in Rusland gemaak en was waarskynlik vroeër met pels versier, want die drade is steeds sigbaar waar iets van die hals en moue afgeskeur is. Werkspanne gaan nie meer na die Siemens-fabriek nie, en ons raai maar dat dit
getref is tydens een van die bomaanvalle wat ons nou elke nag kan hoor. Ek en Betsie moet nou help om die ongelyk grond net binnekant die kampmuur gelyk te maak. Dit is werk wat jou later laat voel jou rug is af. Soms wanneer ek buk om ’n graaf vol grond op te skep, maak my hart snaakse krampe. In die nag is my bene in die ongenaakbare greep van pyn. Die grootste probleem is egter Betsie. Sy raak al hoe swakker. Een oggend ná ’n nag se harde reën kom ons by ons werkplek aan. Die grond is deurweek en swaar. Betsie kon nog nooit veel grond optel nie, maar vandag is die hopies op haar graaf mikroskopies klein. Sy struikel dikwels wanneer sy moet stap na die plek waar ons die grond moet gooi. “Vinniger!” skreeu ’n wag vir haar. “Kan jy nie vinniger werk nie?” Waarom moet hulle altyd skree? wonder ek terwyl ek my graaf in die swart pappery laat wegsak. Waarom kan hulle nie soos gewone mense praat nie? Ek voel hoe die sweet op my rug droog word toe ek stadig regop kom. Ek probeer onthou waar ons die heel eerste keer hierdie kranksinnige lawaai gehoor het. In die Beje. In tannie Jans se kamer. Die stem wat uit die skulpvormige luidspreker gekom het, die geskreeu wat in die lug bly hang het selfs nadat Betsie opgespring het om die radio af te skakel. “Leegloper! Lui vark!” Die wag gryp Betsie se graaf uit haar hande en hardloop daarmee na die verskillende spanne toe. Hy wys vir hulle die handjie vol grond wat al is wat Betsie kan optel. “Kyk net wat Mevrou die Barones aandra! Sy sal haar mos ooreis!” Die ander wagte en selfs sommige van die gevangenes lag. Toe sy aangehits word, na-aap die wag Betsie se struikelende treë. Daar is ook ’n man wat vandag by ons span wag hou, en in die geselskap van ’n man is die vrouewagte altyd vroliker. Namate die gelag groei, voel ek die moorddadige woede in my oplaai. Die wag is jonk en kry genoeg kos. Is dit Betsie se skuld dat sy oud en uitgehonger is? Maar tot my verbasing lag Betsie saam. “Ja-nee, dis ék daai,” gee sy toe, “maar jy moet my liewer los dat ek verder kan
waggel met my lepel vol grond, anders sal ek heeltemal moet ophou.” Die wag se vet wange word bloedrooi. “Ek sal besluit wie wanneer moet ophou werk!” Sy gryp die leerkarwats van haar gordel af en slaan vir Betsie oor haar nek en bors. Sonder dat ek bewus is van wat ek doen, gryp ek my graaf en storm op haar af. Betsie stap voor my in voordat iemand kan sien. “Corrie!” pleit sy en ruk my aan my arm terug. “Corrie! Hou aan werk!” Sy pluk die graaf uit my hande en steek dit in die modder. Vol veragting smyt die wag Betsie se graaf na ons toe. Ek tel dit op, steeds verdwaas. ’n Rooi vlek verskyn op Betsie se bors en ’n rif swel uit in haar nek. Betsie sien waarna ek kyk en lê ’n byna deurskynende maer hand op die karwats se merk. “Moenie daarna kyk nie, Corrie. Kyk net na Jesus.” Sy trek haar hand weg. Dis taai van die bloed.
In die middel van November sak die reën werklik op ons toe. Koue buie wat die hele dag lank aanhou en ons deurweek. Die reën laat selfs op die binnemure druppels vog vorm. Lagerstrasse is nou nooit meer droog nie. Selfs wanneer die reën bedaar, staan daar diep poele water in die pad. Ons word nie toegelaat om rondom die poele te loop wanneer ons in gelid inval nie. Dikwels staan ons tot by ons enkels in die water, en snags stink die slaapkwartiere van leer wat vrot. Betsie hoes en begin bloed opbring. Ons gaan na die inspeksiesaal by die hospitaal, maar Betsie se koors is net 38,8 grade – nie hoog genoeg om haar in die hospitaal te laat bly nie. My droom van ’n verpleegster en ’n apteek in elke barak het lankal soos mis voor die son verdwyn. Dié groot, leë kamer in die hospitaal is waar al die siekes in die kamp moet bymekaarkom, en dikwels staan hulle ure lank in die reën net om by die deur in te kom. Ek haat die troostelose plek vol siek en lydende vroue, maar ons moet bly teruggaan, want Betsie se toestand vererger. Die siekekamer walg haar nie soos vir my nie. Vir haar is dit net maar ’n verhoog waar sy verder oor Jesus kan praat – soos inderdaad elke ander plek waar sy kom. Waar Betsie ook al is, terwyl sy werk, in die kosry wag, in die slaapsaal sit, praat
sy met almal rondom haar oor Jesus se nabyheid en sy verlange om in hulle lewe in te kom. Terwyl haar liggaam al hoe swakker word, word Betsie se geloof al hoe sterker. “En daardie siekesaal is so ’n belangrike plek, Corrie! Sommige van daardie mense staan op die drumpel van die hemel.” Uiteindelik is Betsie se koors een aand hoër as die nodige 40 grade. Steeds wag ons nog baie lank voordat ’n verpleegster verskyn om haar en tientalle ander na die ware hospitaal te neem. Ek bly by Betsie tot by die deur van die hospitaal en vind dan stadig my pad terug na die barak. Soos altyd wanneer ek in die deur van die slaaplokaal staan, herinner dit my aan ’n miershoop. Party slaap reeds ná die lang werkdag, maar die meeste beweeg nog heen en weer. Sommige wag vir ’n beurt by die toilette, ander haal luise van hulleself en hul bure af. Ek wurm my pad in die nou en oorvol paadjies af na die agterste muur. Die biduur is byna verby. Elke aand wanneer ek vir Betsie siekesaal toe neem, los ons die Bybel by mev Wielmaker, ’n gelowige RoomsKatolieke vrou van Den Haag. Sy kan die Hollandse taal in Duits, Frans, Latyn of Grieks oorsit. Vroue drom om my saam. Hoe gaan dit met Betsie? Hoe lank moet sy in die hospitaal bly? Die fluit blaas vir “ligte af” en die geklouter op die beddens begin. Ek trek myself op tot op die middelste vlak en klim oor dié wat reeds lê. Wat ’n verskil sedert Betsie in hierdie barak ingekom het! Vroeër is hierdie oomblik van die dag gekenmerk deur ’n gestoei en ’n gevloek, maar al wat ek vanaand in die groot saal hoor, is geduld. “Jammer.” “Ekskuus tog.” “Toe maar, als in die haak.” Ek kry my lêplek in die donker en druk in die middel van die vrouelywe in. Vanaf die deur flits ’n soeklig by die kamer in en bly draal op plekke waar daar nog iets roer. Iemand boor haar elmboog in my rug en ’n ander vrou se voete is ’n paar sentimeter van my gesig af. Hoe is dit moontlik om tussen so baie mense te wees en tog so eensaam te voel?
14
Die blou oortrektrui
Die volgende oggend hang daar ’n koue, nat mis oor Lagerstrasse. Ek is dankbaar Betsie hoef nie buite te staan nie. Die hele dag lê daar ’n kombers mis oor Ravensbruck. Die dag is onheilspellend. Geluide is gedemp en die son kom glad nie op nie. Ek is nou in die aartappelafdeling, ’n span wat swaar mandjies aartappels na diep slote toe moet dra, waar hulle met grond toegegooi word teen die ysige weer wat voorlê. Ek is bly oor die harde werk wat ’n bietjie van die klammigheid uit my bene verdryf, ook vir die hap wat ek nou en dan uit ’n rou aartappel kan neem wanneer die wagte nie kyk nie.
Vroeg die volgende oggend, toe die wit doodskleed steeds oor die kamp lê, word my verlange na Betsie net te groot. Die oomblik toe die inspeksie verby is, doen ek iets wanhopigs. Mien het vir my vertel van ’n manier om in die hospitaal te kom sonder om by die wagpos binne die deur verby te gaan. By die toilette agter die gebou is ’n groot venster wat so kromgetrek is dat dit nie dig kan sluit nie. Omdat geen besoeke toegelaat word nie, gebruik die familielede van die pasiënte dikwels dié venster om in die hospitaal te kom. In die digte mis is dit maklik om ongesiens by die venster te kom. Ek klim deur en druk dan my neus toe teen die skerp reuk. ’n Ry deksellose, deurlose toilette wat almal oorloop, strek met die een muur langs. Ek stap so vinnig moontlik na die deur toe en gaan staan dan, my hele liggaam die ene hoendervleis. Teen die oorkantste muur lê tientalle naak lyke plat op die rug langs mekaar. Party se oë is nog oop en dit lyk of hulle na die plafon staar.
Ek staan nog daar, my voete swaar soos lood van afgryse, toe twee mans deur die deur beur met ’n bondel waaroor ’n laken gegooi is. Hulle kyk nie eens na my kant toe nie en ek besef hulle dink ek is ’n pasiënt. Ek stap om hulle tot in die gang, en my maag ruk steeds ná wat ek so pas gesien het. Dan stap ek doelloos na links. Die hospitaal is ’n doolhof van gange, mure en deure. Ek is nie eens meer seker waar die toilette is nie. Wat as die aartappelspan gaan werk voordat ek terug is? Skielik lyk ’n gang vir my bekend. Ek hardloop byna van deur tot deur. Uiteindelik is ek in die afdeling waar ek Betsie gelos het. Daar is geen hospitaalpersoneel in sig nie. Ek loop in die gangetjie tussen die beddens af en kyk gretig na elke gesig. “Corrie!” Betsie sit op ’n bed naby aan ’n venster. Sy lyk vir my sterker, haar oë blinker, en daar is ’n rapsie kleur in haar hol wange. Geen verpleegster of dokter het haar nog ondersoek nie, maar die kans om binne te bly en stil te lê het reeds ’n verskil gemaak. Drie dae later keer Betsie terug na barak 28. Sy is nog nie ondersoek nie en het ook geen medisyne gekry nie. Sy voel steeds vir my koorsig, maar my vreugde om haar terug te hê is groter as my kommer. Die beste van alles is, omdat Betsie in die hospitaal was, word sy nou permanent deel van die “brei-brigade”, dié vroue wat ons die eerste dag om die tafels in die sentrale kamer sien sit het. Dié werk is vir die swakste gevangenes bedoel en het nou reeds tot in die slaapsale uitgebrei. Dié wat in die slaaplokale werk, word nie so goed dopgehou soos die ander nie. Betsie vind daarom dat sy die meeste van die tyd die mense rondom haar kan help. Haar breinaalde flits soos weerligstrale, en lank voor die middag het sy reeds haar kwota kouse klaar gebrei. Sy hou ons Bybel by haar en elke dag beweeg sy van platform tot platform en lees ure lank hardop vir die vroue daaruit voor. Een aand kom ek laat by die barak terug nadat ons hout buite die kamp moes gaan bymekaarmaak. ’n Ligte sneeulagie lê op die grond en maak dit moeilik om stokke en takke bymekaar te kry om die stofie in elke kamer aan die gang te hou. Soos gewoonlik wag Betsie vir my sodat ons saam in die kosry kan gaan staan.
Haar oë vonkel. “Jy lyk buitengewoon ingenome met jouself,” sê ek vir haar. “Corrie, onthou jy dat ons nog nooit kon verstaan hoekom ons soveel vryheid in die groot kamer het nie?” vra sy. “Wel, ek het vandag die rede ontdek.” Daardie middag, vertel sy, was daar ’n hele deurmekaarspul in die breigroep oor die grootte van die kouse. Toe vra hulle die opsigter om uitsluitsel oor die saak te gee. “Maar sy wou nie. Sy wou nie by die deur inloop nie. Nie eens die wagte wou nie. Weet jy hoekom?” Betsie kan die triomf nie uit haar stem uithou nie. “Oor die vlooie! Dis wat sy gesê het: ‘Daardie plek wemel van die vlooie!’” My gedagtes vlieg terug na ons eerste uur in daardie barak. Ek onthou Betsie se geboë kop; ek onthou hoe sy vir God dankie gesê het vir dié dierasies waarvoor ek geen nut kon vind nie.
Al word Betsie nou die swaar arbeid buite gespaar, moet sy steeds twee keer per dag inval vir inspeksie. Die lae temperatuur in Desember word ’n ware toets vir elkeen se uithouvermoë. Baie oorleef dit nie. Een donker oggend, toe die ys ’n kransie om elke straatlamp vorm, bevuil ’n gestremde meisie twee rye voor ons haarself. ’n Wag storm op haar af en swaai haar karwats terwyl die meisie skreeu van pyn en vrees. Dit is altyd meer vreesaanjaend wanneer een van die onskuldiges geslaan word. Steeds hou die opsigter nie op om die meisie te slaan nie. Dis die wag vir wie ons die bynaam “Die Slang” gegee het omdat sy so ’n blink rok dra. Ek kan die rok onder haar lang wolmantel in die lig van die lamp sien blink elke keer wanneer sy haar arm optel. Ek is dankbaar toe die skreeuende meisie uiteindelik stil op die steenkoolstraat bly lê. “Betsie,” fluister ek toe Die Slang ver genoeg is, “wat kan ons vir dié mense doen? Later, bedoel ek. Kan ons nie vir hulle ’n tuiste oprig en hulle versorg en liefhê nie?” “Corrie, ek bid elke dag dat ons toegelaat sal word om dit te doen. Om vir hulle
te wys die liefde is die grootste.” Eers later die oggend, toe ek besig is om takkies bymekaar te maak, besef ek: Ek het aan die gestremdes gedink; Betsie aan die vervolgers.
So ’n paar dae later word my hele werkspan hospitaal toe gestuur vir ’n mediese ondersoek. Ek laat val my rok op die hoop net binnekant die deur en sluit aan by die ry kaal vroue. Voor in die ry staan ’n dokter wat, tot my verbasing, sy stetoskoop in ’n noukeurige mediese ondersoek gebruik. “Waarvoor is dié ondersoek?” fluister ek vir die vrou voor my. “Transportasie,” fluister sy terug sonder om haar kop te draai. “Ammunisiewerk.” Transportasie! Maar hulle kan nie! Hulle durf my nie wegstuur nie! Here, moenie dat hulle my van Betsie af wegneem nie! Tot my angs slaag ek die een toets ná die ander – hart, longe, kopvel, keel – en ek bly in die ry. Baie is reeds afgewys, maar dié wat agterbly, is nouliks sterker. Opgeswelde maag, hol bors, speekbeentjies – hoe wanhopig moet Duitsland dan vir werkkrag wees? Ek gaan staan voor ’n vrou in ’n vuil wit jas. Sy draai my sodat ek na ’n kaart teen die muur kyk. Haar hand is koud op my kaal skouer. “Lees die kleinste letters wat jy kan.” “Ek… ek… dit lyk my ek kan nie een van die rye letters lees nie. (Here, vergewe my.) Net die heel boonste letter. Die groot E.” Die boonste letter is ’n F. Die vrou sien my vir die eerste keer werklik raak. “Jy kan beter sien as dit. Wil jy dan afgekeur word?” In Ravensbruck word transportasie na ammunisiefabrieke as ’n voorreg beskou; kos en lewensomstandighede in daardie fabrieke is glo baie beter as hier in die kamp. “O ja, Dokter! My suster is hier in Ravensbruck. Sy is nie gesond nie. Ek kan
haar nie hier los nie.” Die dokter gaan sit by haar tafel en krap iets op ’n stuk papier. “Kom môre terug sodat hulle kan kyk watter bril jou pas.” Toe ek weer by die ry inval, vou ek die stukkie blou papier oop. Gevangene 66730 word beveel om halfsewe die volgende oggend aan te meld om ’n bril te laat pas. Halfsewe is die tyd wanneer die gevangenes op die vervoerkonvooie gelaai word. Toe die groot vragmotors die volgende oggend met Lagerstrasse af dreun, staan ek in ’n gang in die hospitaal en wag vir my beurt by die oogkliniek. Die jong man in beheer is dalk ’n gekwalifiseerde oogarts, maar sy gereedskap bestaan uit ’n boks vol brille, van ’n bril met bifokale lense, een met ’n goue raam tot ’n plastiekraambrilletjie vir ’n kind. Ek kry nie een wat pas nie en word uiteindelik beveel om na my werkspan toe terug te keer. Natuurlik het ek nou geen opdrag nie, want ek was gemerk om weggeneem te word. Onseker loop ek terug na barak 28. Toe ek by die middelste kamer instap, kyk die opsigter oor die koppe van die breispan na my. “Nommer?” vra sy. Ek gee dit en sy skryf dit neer in ’n boek met ’n swart omslag. “Kry jou wol, penne en die patroon,” gaan sy voort. “Jy moet maar ’n plek op een van die beddens soek. Hier is nie meer plek nie.” Sy draai om. Ek staan en knip my oë in die middel van die kamer. Dan gryp ek ’n string donkergrys wol en drafstap by die slaapsaal in. Só begin die intiemste, vreugdevolste weke van die hele tyd in Ravensbruck. Sy aan sy in die toevlugsoord van die Skepper se vlooie, verkondig ek en Betsie die Woord van God aan almal in die kamer. Ons sit by elke sterfbed wat ’n poort na die hemel word. Ons sien hoe vroue wat alles verloor het ryk word aan hoop. Die breiers van barak 28 word die biddende hart van die groot siek liggaam wat Ravensbruck genoem word. Ons is ’n voorspraak vir almal in die kamp – vir die wagte, op aandrang van Betsie, en vir die gevangenes. Ons gebede kring tot ver buite die betonmuur uit. Ons bid vir die genesing van Duitsland, van Europa, van die wêreld – net soos Mamma dit gedoen het vanuit die gevangenis van ’n afgetakelde liggaam.
Terwyl ons bid, praat God met ons oor die wêreld ná die oorlog. Dis so buitengewoon. In hierdie plek waar luidsprekers en fluitjies die plek van besluite inneem, vra God vir ons wat ons gaan doen in die jare wat voorlê. Van ons twee se antwoord is Betsie altyd baie seker. Ons sal ’n huis hê, ’n groot huis, baie groter as die Beje. Mense wat deur die lewe in die konsentrasiekamp geskend is, sal daar kan woon totdat hulle weer gereed is om ’n normale lewe te geniet. “Dis so ’n mooi huis, Corrie! Die vloere is van ingelegde hout, daar is standbeelde in die mure en ’n breë kronkeltrap na bo. En ’n tuin. Die tuin is reg rondom die huis en hulle kan blomme daar plant. Dit sal vir hulle soveel waarde inhou, Corrie, om blomme te versorg.” Ek kyk sprakeloos na Betsie wanneer sy oor hierdie dinge praat. Sy praat altyd asof sy alles reg voor haar sien, asof die breë kronkeltrap en die kleurvolle tuin die werklikheid is, en die saamgedrukte en vuil barak net ’n droom.
Maar ’n droom is dit beslis nie. Dis werklik, pynigend, eindeloos waar, en dit is altyd tydens die inspeksies dat ellende op ellende dreig om my te oorweldig. Een oggend talm drie vroue van barak 28 nog ’n bietjie in die gebou teen die koue daar buite. Die hele week wat volg, word almal in die barak gestraf met ’n ekstra uur op aandag elke dag. Die ligte langs Lagerstrasse is nog nie eens aan wanneer ons om halfvier uit ons beddens gedryf word nie. Dis tydens so ’n inspeksie een oggend dat ek sien wat ek nie kan of wil glo nie. ’n Voertuig se ligte verskyn aan die onderpunt van die lang straat en kom skudskud oor die sneeu aan. Vragmotors met oopgevoude, plat beddens agterop kom so vinnig aan dat die modder onder hulle wiele uitspat. Hulle hou voor die hospitaal se voordeur stil. Die deur gaan oop en ’n verpleegster verskyn. Sy ondersteun ’n bejaarde vrou wie se bene onder haar padgee terwyl sy met die trap af hink. Die verpleegster help haar deernisvol tot agterop die vragmotor. Dan stroom pasiënte skielik by die deur uit; talle bejaardes en siekes leun op die arms van verpleegsters en hospitaalhelpers. Heel laaste kom ander hospitaalhelpers met draagbare tussen hulle. Versigtig word die pasiënte uit die hospitaal geneem en op die vragmotors gelaai.
Ons oë neem elke besonderheid van die toneel voor ons in; ons verstand weier om dit te glo. Natuurlik weet ons dat wanneer die hospitaal oorvol raak, die siekste pasiënte na die baksteengebou aan die voet van die groot skoorsteen geneem word. Maar dié vroue hier reg voor ons… Dis tog onmoontlik. Ek kan alles wat gebeur boonop nie versoen met die gedrag van die verpleegsters nie. Die een wat die pasiënt so sorgsaam tot op die vragmotor gehelp het, en die een wat nou teer oor haar pasiënt buig… Wat gaan op hierdie oomblik deur haar gedagtes?
Steeds word dit kouer. Een aand tydens die inspeksie begin ’n peloton iewers ver in Lagerstrasse af met ’n ritmiese voetestamp. Die geluid swel uit namate ander saam begin voete stamp. Die wagte keer ons nie en uiteindelik marsjeer die hele straat op een plek in pas. Ons stamp ons flenterskoene om die bloedsomloop in ons verkluimde voete en bene weer aan die gang te kry. Van toe af is dít die klank van die inspeksie, die gestamp van duisende voete op die lang, donker straat. Namate die koue toeneem, neem die een groot versoeking van die lewe in die konsentrasiekamp ook toe: die versoeking om net aan jouself te dink. Dit kom voor in honderde sluwe gestaltes. Ek vind gou uit dat wanneer ek vir ons ’n pad na die middel van die groep toe oopwoel, ons ’n bietjie teen die wind beskut is. Ek weet dis ’n kwessie van eiebelang, want wanneer ons in die middel staan, moet iemand anders teen die kant in die wind staan. Hoe maklik is dit om maar net ’n ander naam daaraan te gee! Ek doen dit mos ter wille van Betsie. Ons moet gesond bly omdat ons so ’n belangrik rol het om die Woord te verkondig. Dis kouer in Pole as in Holland; die Poolse vroue voel waarskynlik nie die koue so erg soos ons nie. Selfsug voer sy eie lewe. Toe ek sien hoe Mien se sak vitamientablette vinnig sak, begin ek dit net onder die strooi uithaal wanneer die ligte af is en die ander dit nie sal sien en ook daarvoor vra nie. Is Betsie se gesondheid dan nie belangriker nie? (U sien, Here, sy kan soveel vir hulle doen. Dink aan die huis ná die oorlog!) Selfs al is dit nie reg nie, is dit tog ook nie so vreeslik verkeerd nie, of hoe? Nie so verkeerd soos sadisme en moord en die ander afgryslike booshede wat ons
elke dag in Ravensbruck sien nie. Wat ’n slim streek van Satan in sy koninkryk: om sulke skreeuende sondes te vertoon dat ’n mens amper glo jou eie geheime sondes maak nie saak nie. Die kanker versprei. Die tweede week in Desember kry elke inwoner van barak 28 ’n ekstra kombers. Die volgende dag kom ’n groot groep wat uit TsjeggoSlowakye ontruim is daar aan. Een van hulle word na ons platform gestuur. Sy het glad nie ’n kombers nie en Betsie dring daarop aan dat ons vir haar een van ons s’n gee. Ek “leen” vir haar ’n kombers, maar ek “gee” dit nie vir haar nie. In my hart hou ek vas aan my reg op daardie kombers. Is dit toeval dat die vreugde en krag in my pogings om God se Woord te verkondig byna ongesiens al minder word? My gebede word meganies. Selfs om uit die Bybel te lees word sieldodend en vervelend. Betsie probeer oorneem, maar haar hoes maak dit vir haar onmoontlik om hardop te lees. Só spartel ek voort met aanbidding en onderrig wat lankal nie meer opreg is nie. Tot een middag. Die motreën maak dat daar net genoeg lig deur die venster val sodat ek kan lees. Ek kom by Paulus se verhaal oor sy “doring in die vlees”. Drie keer het hy God gesmeek om sy swakheid weg te neem, wat dit ook al was. Elke keer het God gesê: Vertrou op My. Uiteindelik kom Paulus tot die gevolgtrekking – en skielik is dit asof die woorde van die bladsy af spring – dat juis hierdie swakheid iets is om voor dankbaar te wees. Want Paulus het besef nie een van die wonderwerke wat op sy prediking gevolg het, was sy toedoen nie. Alles het in Christus se krag gebeur, nooit uit Paulus se krag nie. Die waarheid vlam soos sonlig in die skaduwees van barak 28. Die werklike sonde wat ek begaan het, was nie om na die middel van die peloton te skuif omdat ek koud gekry het nie. Die werklike sonde was om te dink die krag om te help en te verander kom van my af. Natuurlik is dit nie ek wat so goed is wat die verskil gemaak het nie, maar Christus self. Die kort wintersdag sterf weg; ek kan nie meer die woorde op die bladsy onderskei nie. Ek maak die Bybel toe en vertel vir die groep vroue rondom my die waarheid oor myself. Ek stel my eie belange bo dié van ander; ek is suinig; ek het nie genoeg liefde nie. Daardie nag keer die werklike vreugde na my aanbidding terug.
Met elke inspeksie byt die wind nog dieper en skerper. Wanneer sy kan, smokkel Mien koerante uit die hospitaal se personeelkamer. Ons sit dit binne-in ons klere. Nollie se blou oortrektrui onder Betsie se rok is swart van die koerante se drukwerk. Dit lyk of die koue Betsie se bene beïnvloed. Soms kan sy hulle soggens glad nie beweeg nie. Twee van ons moet haar tussen ons dra. Dis nie moeilik nie, want sy weeg nie meer as ’n kind nie. Maar sy kan nie meer haar voete stamp om die bloed te laat sirkuleer nie. Wanneer ons terug is by die slaapsaal, vryf ek haar voete en hande, maar my eie hande word net kouer wanneer ek aan haar raak. Die week voor Kersfees word Betsie wakker en kan nie haar arms óf haar bene beweeg nie. Ek stoot my pad oop deur die oorvol gangetjies tot in die sentrale kamer. Die Slang is op diens. “Asseblief tog!” smeek ek. “Betsie is siek! Asseblief, sy moet hospitaal toe gaan!” “Staan op aandag. Gee jou nommer.” “Gevangene 66730. Asseblief, my suster is siek!” “Alle gevangenes moet vir die inspeksie aanmeld. As sy siek is, kan sy by die sieke-inspeksie aanteken.” Maryke de Graaf, ’n Hollandse vrou op die platform bokant ons s’n, help my. Met ons arms maak ons ’n soort sitplek vir Betsie en dra haar buitentoe. Die ritmiese gestamp in Lagerstrasse het reeds begin. Ons dra haar hospitaal toe, maar toe ons daar kom, vries ons in ons spore. In die lig van die straatlampe strek die ry teen die kant van die gebou af en verdwyn om die hoek. In die swarterige sneeu lê drie liggame net daar waar hulle neergeval het. Sonder ’n woord draai ek en Maryke om en dra ons kosbare vrag terug Lagerstrasse toe. Ná die inspeksie sit ons vir Betsie terug in die bed. Sy praat stadig en onduidelik, maar sy probeer iets sê. “’n Kamp, Corrie… ’n konsentrasiekamp. Maar ons… is in… beheer…” Ek moet my oor baie naby aan haar mond hou om te kan hoor. Die kamp is in Duitsland. Dis nie meer ’n tronk nie, maar ’n tuiste waar mense wat deur die filosofie van haat en mag ontaard het, ’n nuwe weg kan vind. Daar is nie mure
nie, nie doringdraad nie, en die barakke het tuinkassies in die vensters. “Dit sal so goed wees vir hulle… om blomme te sien groei…” Teen dié tyd weet ek na watter mense sy verwys. Die Duitsers. Ek dink aan Die Slang wat vanoggend in die barakdeur gestaan het. “Gee jou nommer. Alle gevangenes moet vir inspeksie aanmeld.” Ek kyk na Betsie se inmekaargekrimpte gesig. “Gaan ons die kamp dan in Duitsland bou, Betsie? In die plek van die groot huis in Holland?” “O nee!” Sy lyk geskok. “Ons gaan die huis eerste inrig. Dis reeds gereed en wag vir ons… die groot, groot vensters! Die son stroom in…” ’n Hoesbui oorweldig haar. Toe sy eindelik weer stil lê, kleur die bloed die strooi. In die dag en nag wat volg, sluimer Betsie soms onrustig in. Dikwels word sy wakker oor haar opgewondenheid oor besonderhede van ons werk in Holland of Duitsland. “Die barakke is grys, Corrie, maar ons gaan hulle groen verf! Heldergroen, soos die lente.” “Ons sal saam wees, Betsie? Sal ons dit alles saam doen? Is jy seker daarvan?” “Altyd saam, Corrie! Ek en jy… altyd saam.” Toe die sirene die volgende oggend huil, dra ek en Maryke weer vir Betsie by die slaapsaal uit. Die Slang staan by die deur na die straat. Toe ons met ons brose bondeltjie by haar wil verbygaan, keer sy ons. “Neem haar terug bed toe.” “Ek dog alle geva…” “Neem haar terug!” Verwonderd gaan sit ons vir Betsie terug in die bed. Ysreën kletter teen die vensters. Is dit moontlik dat die atmosfeer in barak 28 selfs die wrede wag aangeraak het? Die oomblik toe die inspeksie verby is, hardloop ek terug slaapsaal toe. Daar, langs ons bed, staan Die Slang. By haar sit twee helpers van die hospitaal ’n draagbaar neer. Die Slang kom byna skuldig orent toe ek naderkom. “Gevangene is gereed vir oorplasing,” sê sy kortaf.
Ek kyk aandagtiger na die vrou. Het sy haar blootgestel aan vlooie en luise om Betsie die siekery te bespaar? Sy keer my nie toe ek agter die groot draagbaar aanloop nie. Die groep breiers kom net toe by die groot kamer in. Terwyl ons by hulle verbystap, gaan staan ’n Poolse vriendin op haar knieë en maak die Kruisteken. Ysreën prik ons gesigte en hande toe ons buite kom. Ek stap naby aan die draagbaar om die reën van Betsie te probeer weghou. Ons stap verby die ry siekes, en dan by die deur in tot in ’n groot saal. Hulle sit die draagbaar op die vloer neer en ek leun af om Betsie se woorde te hoor. “… moet die mense sê wat ons hier geleer het. Ons moet hulle sê daar is geen put so diep dat Hy nie nog dieper kan reik nie. Hulle sal na ons luister, Corrie, omdat ons hier was.” Ek kyk na wat van my suster oorgebly het. “Maar wanneer sal al hierdie dinge gebeur, Betsie?” “Nou. Sommer gou. Baie gou! Teen die eerste dag van die jaar sal ons uit die tronk wees, Corrie.” ’n Verpleegster sien my raak. Ek stap agteruit deur se kant toe, maar hou hulle die hele tyd dop terwyl hulle vir Betsie in ’n smal bedjie onder die venster neersit. Ek hardloop om die buitekant van die gebou. Uiteindelik sien Betsie my raak. Ons glimlag vir mekaar en wissel geluidlose woorde totdat een lid van die kamppolisie vir my skreeu om daar weg te kom. Vinnig draf ek weg. Teen twaalfuur sit ek my breiwerk neer en stap na die sentrale kamer. “Gevangene 66730 meld aan. Ek vra toestemming om die hospitaal te besoek.” Ek staan so regop asof ek ’n laaistok ingesluk het. Die Slang kyk op en skryf vir my ’n pas uit. Buite ysreën dit steeds. Ek kom tot by die saal se deur, maar die nors verpleegster weier om my te laat ingaan, selfs al het ek ’n pas. Toe loop ek maar weer om na die venster by Betsie se bed. Ek wag totdat die verpleegster uit die kamer is en tik dan saggies teen die ruit. Betsie se oë gaan oop. Stadig draai sy haar kop. “Gaan dit goed?” vorm ek die woorde met my lippe.
Sy knik. “Jy moet goed uitrus,” gaan ek voort. Haar lippe vorm ’n antwoord, maar ek kan nie uitmaak wat sy sê nie. Sy vorm weer die woorde. Ek kantel my kop sodat ek haar mond beter kan sien. Die blou lippe gaan weer oop. “… soveel werk om te doen…” Daardie middag en aand is Die Slang van diens af. Al smeek ek die ander wagte herhaaldelik, kry ek nie weer toestemming om hospitaal toe te gaan nie. Die oomblik toe die inspeksie die volgende oggend verby is, hardloop ek hospitaal toe, sonder toestemming. By die venster vou ek my handpalms om my oë om in te loer. ’n Verpleegster staan direk tussen my en Betsie. Ek buk uit haar gesigsveld weg, wag ’n oomblik of twee en kyk toe weer na binne. ’n Tweede verpleegster staan nou by die eerste een en hulle al twee staan in my pad. Toe stap een van hulle na die koppenent van die bed en die ander een na die voetenent. Ek kyk nuuskierig na die bed. ’n Beeld, gekerf uit ou geel ivoor, lê daarop. Die figuur het geen klere aan nie. Ek kan elke ivoorrib sien, selfs die buitelyne van die tande deur die perkamentwange. Dit duur ’n oomblik voordat ek besef dit is Betsie. Die verpleegsters gryp elk twee hoeke van die laken vas. Hulle lig dit op en dra die bondeltjie by die kamer uit. Eers toe begin my hart weer in my borskas klop. Betsie! Maar… sy het nog te veel om te doen! Sy kan nie… Waarheen neem hulle haar? Waarheen het hulle verdwyn? Ek draai weg van die venster af en begin teen die kant van die gebou af hardloop. My bors pyn wanneer ek asemhaal. Dan onthou ek van die badkamer. Die venster aan die agterkant… My voete dra my meganies om na die agterkant van die gebou. Daar, met my hand op die vensterbank, bly ek doodstil staan. Sê nou sy is daar? Sê nou hulle het Betsie op daardie vloer neergelê?
Ek begin weer stap. Lank loop ek met daardie pyn in my bors. En elke keer neem my voete my terug na die badkamer se venster. Ek sal nie ingaan nie. Ek sal nie gaan kyk nie. Betsie kan eenvoudig nie daar wees nie. Ek loop weer weg. Hoe vreemd, besef ek wel, dat ek ’n hele paar keer verby die kamppolisie stap, maar dat nie een my voorkeer of ondervra nie. “Corrie!” Ek draai om. Ek sien Mien agter my aan gehardloop kom. “Corrie, ek soek oral na jou! Corrie, kom!” Sy gryp my aan my arm en trek my in die rigting van die agterkant van die hospitaal. Toe ek sien waarheen sy wil gaan, ruk ek my arm los. “Ek weet, Mien. Ek weet reeds.” Sy hoor my skynbaar nie. Weer gryp sy my arm vas en trek my tot by die badkamervenster. Toe stoot sy my deur die venster. In die onwelriekende kamer staan ’n verpleegster. Verskrik beur ek agteruit, maar Mien is agter my. “Dit is die suster,” sê Mien vir die verpleegster. Ek draai my kop weg. Ek weier om na die ry lyke teen die verste muur te kyk. Mien sit haar arm om my skouers en trek my deur die badkamer totdat ons voor die hartverskeurende ry lyke staan. “Corrie, sien jy haar?” Ek kyk op… na Betsie se gesig. Here Jesus, wat het U gedoen? O my Heer, wat wil U sê? Wat gee U vir my? Want daar lê Betsie, haar oë toe asof sy slaap, haar gesig vol en jonk. Die lyne van kommer, die lyne van smart, die diep holtes van honger en siekte, het eenvoudig verdwyn. Voor my is die Betsie van Haarlem, gelukkig en vreedsaam. Sterker! Vryer! Die Betsie van die hemel wat oorloop van vreugde en gesondheid. Selfs haar hare lê pragtig en netjies om haar gesig asof ’n engel self haar versorg het.
Vol verwondering draai ek uiteindelik na Mien toe. Die verpleegster stap deur se kant toe en maak dit vir ons oop. “Julle kan deur die saal uitgaan,” sê sy sag. Ek kyk nog eenkeer na my suster se stralende gesig. Toe verlaat ek en Mien saam die kamer. ’n Hoop klere lê buite die kamer in die saal opgestapel. Heel bo lê Nollie se blou oortrektrui. Ek buk om dit op te tel. Die trui is verslete en swart van die koerantdruk, maar dis ’n tasbare skakel met Betsie. Mien gryp my aan die arm. “Moenie aan daardie goed raak nie! Swart luise! Dit gaan alles verbrand word.” Só laat ek selfs die laaste tasbare band agter. Dis goed so. Dis beter. Want wat my nou aan Betsie verbind, is die hoop op die hemel.
15
Die drie visioene
Die skoonheid van Betsie se gesig dra my deur die volgende paar dae terwyl ek van die een vrou na die ander gaan, na almal wat haar liefgehad het, en haar vreedsaamheid en vreugde vir hulle beskryf. Twee oggende later word die name tydens die inspeksie gelees. Die ander barakke word toegelaat om te gaan, net barak 28 bly staan in gelid, ons oë stip na voor gerig. Die luidspreker kras en ’n stem word hoorbaar: ’n Vrou word vermis en die ganse barak sal op Lagerstrasse bly staan totdat sy gevind word. Links, regs, links, regs, ’n eindelose voetgestamp om die koue uit moeë bene te probeer verdryf. Die son kom op, maar die wind verdryf die hitte. Ek kyk af na my voete. My bene en enkels is besig om koddig dik te swel. Teen twaalfuur is daar geen gevoel in hulle oor nie. Betsie, hoe gelukkig is jy vandag! Geen koue nie, geen honger nie, niks tussen jou en die aangesig van Jesus nie. Eers die middag mag ons loop. Ons hoor die vermiste vrou is dood op een van die boonste platforms aangetref. Die volgende oggend tydens die inspeksie hoor ek hoe hulle oor die luidspreker roep: “Ten Boom, Cornelia!” ’n Oomblik bly staan ek versteen net waar ek is. Ek is al so lank net gevangene 66730 dat ek byna nie meer op my naam kan reageer nie. Ek loop vorentoe. Wat gaan nou gebeur? Hoekom is net ek uitgeroep? Het iemand gaan verklap dat ek ’n Bybel het? Die inspeksie sleep voort. Van waar ek staan, kan ek byna die ganse Lagerstrasse sien, tien duisend vroue wat uitstrek tot waar ek hulle nie meer kan sien nie, net hulle asem hang wit in die naglug.
Die sirene loei om die inspeksie af te sluit en die wag wink vir my om haar te volg. Ek plas deur die pappery modder om te probeer bybly by die lang treë van haar stewels. My bene en voete is steeds pynlik geswel van die lang inspeksie van die vorige dag. My skoene is met stukkies tou vasgebind. Ek hinkepink agter haar aan tot in die istrasiebarak. Etlike gevangenes staan in ’n ry voor ’n groot lessenaar. Die offisier agter die lessenaar stempel ’n vel papier en gee dit vir die vrou voor hom. “Entlassen!” roep hy skerp. Entlassen? Vrygelaat? Is… is die vrou nou vry? Is… is ons almal… Die offisier roep nog ’n naam en ’n ander gevangene stap tot by die lessenaar. ’n Handtekening, ’n stempel. “Entlassen!” Uiteindelik hoor ek my naam. “Ten Boom, Cornelia!” Ek stap na die lessenaar toe en druk my lyf daarteen vas sodat ek minder sal bewe. Die man skryf, kap die stempel op die papier en gee dit vir my. Ek hou dit in my hand vas… ’n stuk papier met my naam en geboortedatum daarop. Dwars oor die boonste gedeelte staan in groot swart letters: SERTIFIKAAT VAN ONTSLAG. Verdwaas volg ek die ander deur die deur aan ons linkerkant. Daar ontvang ek by ’n ander lessenaar ’n spoorwegpas wat aan my die reg gee om vervoer deur Duitsland te gebruik tot by die Hollandse grens. Buite dié kantoor wys ’n wag vir my ek moet in die gang af loop na nog ’n kamer. Die gevangenes wat voor my in die ry was, is reeds almal daar. Hulle trek hulle rokke oor hulle koppe en gaan staan in ’n ry teen die agterste muur. “Klere hier!” sê ’n bevoorregte gevangene glimlaggend. “Fisiese ondersoek,” verduidelik sy. Ek trek die Bybel saam met my rok oor my kop, rol alles in ’n bondeltjie op en begrawe dit onder al die ander klere. Ek sluit by die ander aan en voel die houtmuur se grofheid teen my kaal rug. Snaaks hoe die enkele woord “Ontslag” die tronkprosedure honderd maal haatliker maak. Hoe dikwels het ek en Betsie nie só gestaan nie. Maar die gedagte aan vryheid raak my diep, en die skande en verleentheid van dié inspeksie is groter as al die ander saam. Uiteindelik kom die dokter daar aan, ’n sproetgesigseun in ’n militêre uniform.
Hy kyk met onverbloemde minagting na die ry vroue voor hom. Een vir een moet ons omdraai, buk en ons vingers uitsprei. Toe hy by my kom, gaan sy oë af na my voete toe. Sy lippe trek op ’n tuit van walging. “Water,” sê hy. “Hospitaal.” En weg is hy. Saam met een ander vrou wat nie die toets “geslaag” het nie, pluk ek my klere weer aan en volg die bevoorregte gevangene by die gebou uit. Die dag breek. Bokant ons is ’n norse grys lug wat sneeu spoeg. Ons stap met Lagerstrasse op, verby die eindelose rye barakke. “Dan gaan ons nie… gaan ons nie vrygelaat word nie?” “Ek neem aan jy sal gaan sodra die swelsel aan jou bene sak,” sê die bevoorregte gevangene. “Hulle laat jou net loop as jy in ’n goeie liggaamlike toestand is.” Ek sien hoe sy na die ander gevangene kyk. Die vrou se vel en oë is ’n dowwe donkergeel. Die ry siekes strek om die hoek van die hospitaal, maar ons loop reguit by die ingang in na ’n saal in die agterkant. Die kamer is propvol dubbeldekkerbeddens. Ek kry ’n slaapplek heel bo langs ’n vrou wie se liggaam met septiese puisies oortrek is. Maar dis ten minste naby ’n muur waarteen ek my geswelde bene kan lig. Dis al wat nou saak maak: om die swelsel af te kry en die inspeksie deur te kom.
Of die moontlikheid op vryheid ’n nuwe meedoënlose lig op Ravensbruck laat val en of dit werklik die mees barbaarse plek ooit is, kan ek nie sê nie. Die lyding om my is egter vir my net te veel. Rondom my lê die oorlewendes van ’n trein vol gevangenes wat op pad hierheen onder die bomme deurgeloop het. Die vroue is afskuwelik vermink en in die allerverskriklikste pyn, maar met elke kreun spot twee van die verpleegsters met hulle en aap die geluide na. Selfs in ander gevangenes sien ek dieselfde ongevoeligheid en onverskilligheid teenoor mense – die noodlottigste siekte van die konsentrasiekamp. Ek voel hoe dit na my toe versprei. Hoe kan ’n mens hierdie omstandighede oorleef as jy aanhou vir ander omgee? Die verlamdes en bewusteloses val aanhoudend uit die oorvol, smal slaapbanke; die eerste nag in die hospitaal val vier vroue van die
boonste slaapbanke af en sterf op die vloer. Dis beter om jou verstand in te perk om net op jou eie behoeftes te konsentreer, om nie te sien nie, om nie te dink nie. Maar die geluide kan jy nie uitsluit nie. Die hele nag lank skreeu die vroue ’n Duitse woord wat ek nie ken nie. “Schieber!” Oor en oor kom dit uit rou kele: “Schieber!” Uiteindelik besef ek hulle roep vir bedpanne. Vir die meeste vroue is dit onmoontlik om die morsige badkamer langsaan te haal. Uiteindelik, onwillig om my bene te laat sak, klim ek uit my bed en begin die taak verrig. Die dankbaarheid van die pasiënte is hartverskeurend. “Wie is jy? Hoekom doen jy dit?” – asof wreedheid en ongevoeligheid die norm is en doodgewone liefdadigheid die wonderwerk. Toe ’n winterige dagbreek deur die vensters kruip, besef ek dit is Kersdag.
Elke oggend gaan ek na die kliniek voor die hospitaal. Van daar kan ek die voetgestamp in Lagerstrasse hoor. Elke keer is die beslissing “water van die voete en enkels”. Baie van dié by die kliniek is, net soos ek, ontslaande gevangenes. Sommige is maande gelede al vrygelaat. Hulle ontslagpapiere en spoorwege is al verflenter van al die oop- en toevou. Wat as Betsie nog geleef het? Ons tronkstraf sou tog gelyktydig moes eindig. Maar Betsie sou nooit ooit die liggaamlike ondersoek deurgekom het nie. Wat as sy saam met my hier was? Wat as ek die inspeksie deurgekom het en sy… “Daar is nie ‘asse’ in God se koninkryk nie.” Ek kan haar sagte stem dit hoor sê. Sy tydsberekening is perfek. Sy wil is ons skuilplek. Here Jesus, hou my binne u wil! Moenie toelaat dat ek kranksinnig word deur my gedagtes daar te laat ronddwaal nie. Ek hou aan soek na iemand vir wie ek die Bybel kan gee. Hoe maklik sal dit wees om in Holland ’n ander een te kry, sommer honderd ander. Daar is nie baie Hollanders in die saal wat die Bybel kan lees en verstaan nie, maar uiteindelik hang ek dit om die nek van ’n dankbare jong vrou van Utrecht. Tydens my sesde nag in die saal verdwyn al twee die bedpanne skielik geheimsinnig. Op ’n boonste bed langs die middelste paadjie is twee Hongaarse
sigeuners wie se gebrabbel deel vorm van die taalverwarring in die kamer. Ek loop nooit by hulle bed verby nie, want een van hulle het gangreen in haar voet en sy druk dit in die gesig van enigeen wat naby genoeg aan haar kom. Iemand skree dat die sigeuners die bedpanne onder die komberse weggesteek het sodat hulle nie toilet toe hoef te gaan nie. Ek gaan na hulle bed toe en pleit by hulle, al weet ek nie eens of hulle Duits verstaan nie. Skielik kleef iets nat en taai aan my gesig. Die vrou het die verband van haar voet af gehaal en dit in my gesig gegooi. Ek hardloop huilend in die gang af en gaan was en was my gesig onder die muurkraan in die badkamer. Ek sal nooit weer na daardie bed toe loop nie! Wat traak die ellendige bedpanne my tog? Ek kan dit nie meer verduur nie… Maar natuurlik gaan ek terug. In die afgelope jaar het ek baie geleer oor wat ek kan of nie kan verduur nie. Toe die sigeuners sien ek kom in die gang af na hulle toe, val al twee bedpanne klingelend op die vloer.
Die volgende oggend stempel die dokter die mediese goedkeuring op my ontslagvorm. Alles wat eers so gesloer het, gebeur nou met verbysterende spoed. In ’n skuur naby die buitehek van die kamp gee hulle vir my klere. Onderklere, ’n wolromp, ’n mooi syhemp, sterk, byna nuwe skoene, ’n hoed en ’n jas. Ek moet ’n vorm teken dat ek nooit in Ravensbruck siek was nie, nooit ’n ongeluk gehad het nie en dat ek goed behandel is. Ek teken. In ’n ander gebou ontvang ek ’n dag se broodrantsoen en voedselkoepons vir nog drie dae. Ek kry ook my horlosie, my Hollandse geld en Mamma se ring terug. En daar staan ek toe saam met ’n groep van tien of twaalf ander net binnekant die hek. Die swaar ysterhekke swaai oop. Op die hakke van ’n vroulike wag marsjeer ons deur die hekke. Ons klim teen die heuwel uit. Nou kan ek die meer sien, toegeys van oewer tot oewer. Die denne en die kerktoring in die verte skitter in die winterson, net soos op ’n outydse Kerskaartjie. Ek kan dit nie glo nie. Miskien is ons maar net op pad na die Siemensfabriek; vanaand marsjeer ons maar weer terug kamp toe. Maar bo-op die heuweltjie draai ons links in die rigting van die dorpie. Ek voel hoe my voete in die smal, nuwe skoene swel, maar ek byt my lip vas en stap in pas met die ander. Ek sien
in my verbeelding hoe die wag omdraai, met haar vinger minagtend na my geswelde voete wys en sê: “Water! Stuur haar terug kamp toe!” By die spoorwegstasie draai die wag om en laat ons daar sonder om een keer om te kyk. Skynbaar reis ons saam tot in Berlyn en van daar kies elkeen haar eie pad huis toe. Ons wag lank op die koue ysterbanke. Die gevoel van onwerklikheid bly my by. Net een ding is bekend, die honger holte in my maag. Ek stel so lank uit as wat ek kan om my broodrantsoen uit te haal, maar uiteindelik steek ek tog my hand in my jas se sak. Die pakkie is weg. Ek spring van die bank af op, soek onder die bankie rond en stap dan op my spore terug deur die stasie. Of ek dit laat val het en of iemand dit gesteel het, die brood is weg. En daarmee saam die rantsoenkaartjies. Uiteindelik trek ’n trein by die stasie in en ons storm gretig daarop af, maar dit is net vir militêre personeel bedoel. Laat die middag word ons op ’n postrein toegelaat, maar net twee stasies verder moet ons afklim om vir ’n besending kos plek te maak. Die reis word ’n dowwe waas. Iewers ná middernag bereik ons die eindpunt – ’n verwoeste Berlyn. Dis Nuwejaarsdag 1945. Betsie was reg. Ek én sy is vry… Sneeu vlok stadig neer deur die verflenterde dak terwyl ek verward en bang deur die spelonkagtige stasie dwaal. Ek weet ek moet die trein na Uelzen haal, maar die lang maande waarin ek altyd net beveel is wat om te doen, het my van my inisiatief beroof. Uiteindelik beduie iemand my na ’n perron ’n hele ent weg. Elke tree in die harde skoene is nou ’n louter foltering. Toe ek uiteindelik by die perron aankom, is die naam op die bordjie nie Uelzen nie maar Olsztyn, ’n dorp in Pole in presies die teenoorgestelde rigting. Weer moet ek oor die eindelose betonvloere stap. Voor my is ’n bejaarde man besig om die puin van ’n bomaanval op ’n hoop te vee. Sy wange is pienk van die werk in die daklose stasie. Toe ek hom vra om vir my te verduidelik waarheen ek moet gaan, neem hy my aan die arm en lei my na die regte perron toe. “Ek was eenkeer in Holland,” sê hy en daar is verlange in sy stem, “toe die vrou nog geleef het. Ons het vlak by die see gebly.” ’n Trein staan op die spoor en ek klim in. Eers ure later klim daar nog iemand in,
maar ek is te bang dat ek nie weer my pad na die trein sal terugvind as ek afklim nie. Teen die tyd dat die trein wegtrek, is ek duiselig van die honger. By die eerste stasie buite Berlyn volg ek die ander asiers na die stasiekafee. Ek wys vir die vrou agter die geldlaai my Hollandse gulde en vertel vir haar dat ek my koepons verloor het. “Dis ’n ou storie! Maak dat jy wegkom voor ek die polisie roep.” Die reis is eindeloos. Die trein kan net teen ’n slakkepas beweeg oor die spoorlyn wat oor soveel kilometer strek. Van sommige gedeeltes van die spoorlyn is daar niks oor nie. Ons reis met ompaaie langs en dikwels moet ons van die een trein op ’n ander oorklim. Dikwels hou ons nie eens by ’n stasie stil nie weens die vrees vir lugaanvalle. Vrag en asiers word liewer iewers in die veld geruil. Die hele tyd sweef die eens pragtige Duitsland by my venster verby. Swartverskroeide woude… die dun ribbes van ’n kerk wat bo ’n verwoeste dorpie uitstaan. Veral Bremen bring trane in my oë. Op die hele groot stuk verwoeste aarde sien ek net een mens, ’n bejaarde vrou wat met ’n stok tussen ’n hoop stene krap. Wat soek die arme vrou tog? In Uelzen moet ek weer lank vir die volgende trein wag. Dis laat in die nag en die stasie is verlate. Terwyl ek in ’n leë koffiewinkel insluimer, sak my kop vooroor totdat dit op die tafeltjie voor my rus. ’n Hou teen my oor laat my amper van die stoel af tot op die vloer val. “Dis nie ’n slaapkamer dié nie!” skreeu die woedende stasiebeampte. “Jy kan nie ons tafels gebruik om op te slaap nie!” Treine kom en treine kom nie. Ek klim op en ek klim af. Dan staan ek in ’n ry by ’n doeanekantoor en die naam op die stasiegeboutjie sê Nieuwerschans. Toe ek die stasie verlaat, kom ’n man in ’n blou oorpak en ’n blou pet na my toe. “Hier! Jy sal nie ver kom met daardie bene nie. Hou aan my arm vas.” Hy praat Hollands. Ek klou aan hom vas en hinkepink oor ’n paar spoorlyne tot na waar ’n ander trein wag. Ek is in Holland. Ons ruk vorentoe. ’n Plat, sneeubedekte wêreld gly by my venster verby.
Holland is steeds beset. Duitse soldate staan hier en daar langs die spoor… maar dis my vaderland. Die trein loop net tot in Groningen, ’n Hollandse stad nie ver van die grens af nie. Van daar af is al die spoorstawe uitgehaal en alle reise behalwe dié van die regering is verbode. Met my laaste bietjie krag hink ek na ’n hospitaal naby die stasie. ’n Verpleegster in ’n skitterwit uniform nooi my na ’n kantoortjie. Toe ek my storie vir haar vertel het, verlaat sy die kamer. Binne ’n paar minute is sy terug met ’n skinkbord tee en beskuit. “Ek het nie botter op gesmeer nie,” sê sy. “Jy ly aan ondervoeding. Jy moet versigtig wees met wat jy eet.” My trane stort in die warm tee terwyl ek dit drink. Hier is iemand wat waarlik oor my besorg is. Daar is geen bed in die hospitaal beskikbaar nie, maar een van die personeellede is weg en ek kan haar kamer kry. “Ek tap gou vir jou ’n bad vol warm water.” Ek volg haar deur silwerskoon gange. Dit voel vir my of ek droom. In ’n groot badkamer styg stoomwolke uit ’n blinkskoon bad. In my hele lewe het iets nog nooit eens naby aan hierdie bad vol water gekom nie. Ek sink weg totdat die water tot by my ken kom en ek voel hoe die warm water my skurwe vel streel. “Nog net vyf minute!” soebat ek elke keer dat die verpleegster aan die deur klop. Uiteindelik laat ek toe dat sy vir my ’n nagrok aangee. Sy neem my na ’n opgemaakte bed. Lakens. ’n Wit laken bo en ’n wit laken onder. Ek kan nie ophou om met my hande daaroor te streel nie. Die verpleegster wikkel ’n tweede kussing onder my geswelde voete in. Ek veg om wakker te bly. Om hier te lê, skoon en versorg, is so ’n vreugde dat ek nie een oomblik daarvan wil misloop deur te slaap nie.
Ek bly tien dae in die hospitaal in Groningen. Ek voel my krag terugkom. Die meeste van die maaltye eet ek saam met die verpleegsters in hulle eetkamer. Die eerste keer toe ek die lang tafel met silwerware en glase gedek sien, deins ek verskrik terug. “Julle hou ’n partytjie! Ek sal my skinkbord na my kamer toe neem en daar gaan eet.” Ek voel nog nie gereed vir die gelag en sosiale gesprekke nie.
Die jong vrou langs my lag toe sy vir my ’n stoel uittrek. “Dis nie ’n partytjie nie! Dis net aandete. En ook maar skraal.” Ek sit en knip net my oë terwyl ek na al die messe en vurke en die tafeldoek kyk. Het ek ook eenkeer lank gelede só geëet, elke dag van die jaar? Soos ’n barbaar wat sy eerste beskaafde maaltyd dophou, boots ek die rustige bewegings van die ander na terwyl hulle brood en kaas aanstuur en sonder haas hulle koffie sit en roer. Die grootste begeerte in my hart is om by Willem en Nollie te wees, maar hoe kan ek dit regkry as ons nie mag reis nie? Die telefoondiens is ook meer beperk as ooit, maar uiteindelik slaag die meisie by die hospitaalsentrale daarin om die telefoonoperateur in Hilversum te bereik met die nuus van Betsie se dood en my vrylating. In die middel van die tweede week reël die hospitaalowerhede vir my ’n rit suidwaarts op ’n voedselvragmotor. Ons voer die onwettige rit in die nag uit en die voertuig ry sonder ligte. Die kos, ’n deel van ’n vrag wat vir Duitsland bestem is, is stil-stil in die vragmotor gelaai. In die grou oggendlig hou ons by Willem se baksteenverpleeginrigting stil. ’n Lang meisie met breë skouers maak die deur oop en storm toe deur die portaal met die nuus dat ek daar aangekom het. ’n Oomblik later is my arms om Tine en twee van haar dogters. Willem kom stadiger, kruppel-kruppel, in die gang af met die hulp van ’n kierie. Ons hou mekaar lank vas terwyl ek vir hom die besonderhede van Betsie se siekte en dood vertel. “Ek wens amper,” sê Willem stadig, “om dieselfde nuus oor Kik te hoor. Dit sal vir hom goed wees om saam met Pappa en Betsie te wees.” Hulle het nog nie ’n enkele woord van die lang, blonde seun gehoor sedert hy Duitsland toe gedeporteer is nie. Ek onthou sy hand op my skouer terwyl ons met ons fietse deur die donker strate van Haarlem na Pickwick toe gery het. Ek onthou sy geduldige onderrig: “Jy het geen rantsoenkaarte nie, tannie Corrie! Daar is geen Jode by jou nie.” Kik! Is die jonges en dapperes net so kwesbaar soos die oues en stadiges? Ek bly twee weke in Hilversum en probeer aanpas by wat ek in daardie eerste oomblik gesien het. Willem is sterwend. Dit lyk of net hy self onbewus is
daarvan wanneer hy hinkend deur die sale stap en die siek mense in sy sorg vertroos en raad gee. Hulle het op die oomblik meer as vyftig pasiënte. Wat ek egter nie kan begryp nie, is die groot getal jong meisies wat daar werk as helpers vir die verpleegsters, die kombuishulp en sekretaresses. Dit kos my ’n paar dae voordat ek ontdek hierdie “meisies” is eintlik jong mans wat wegkruip vir die gedwonge arbeid, wat wreder as ooit geword het. Binne-in my kom dit egter nie tot rus nie. Ek moet Haarlem toe gaan. Nollie is daar, ja, maar ook die Beje roep my, iets in die huis self wink na my, sê vir my ek moet huis toe kom. Weer is die probleem hoe om daar te kom. Willem mag ’n amptelike voertuig gebruik, maar net binne die grense van Hilversum. Uiteindelik, ná baie telefoonoproepe, sê hy vir my die reis is gereël. Die paaie is verlate. Ons gaan by net twee motors verby op ons pad na Haarlem, na die plek waar ons die ander voertuig moet kry. Voor ons sien ons dit, langs die pad geparkeer. Dit is ’n lang swart limousine met amptelike nommerplate en gordyntjies voor die agtervensters. Ek soen vir Willem tot siens en klim gou agter in, net soos ek beveel is. Selfs in die slegte lig agter die gordyne is die massiewe liggaam langs my onmiskenbaar. “Oom Herman!” roep ek uit. “My liewe Cornelia.” Sy groot hand vou om albei myne. “God gun my dit om jou weer te sien.” Ek het Pickwick laas op die bus in Den Haag gesien, toe sy kaalkop gekneus en vol bloed was. En hier is hy nou en bewys medelye aan my asof dit so ’n klein en onbenullige insident was dat dit nie eens die moeite werd is om dit te onthou nie. Dit lyk vir my of hy nog net so goed ingelig is as ooit tevore oor wat in Haarlem aangaan. Terwyl die bestuurder in uniform oor die leë paaie voortspoed, vertel hy vir my alles wat ek so graag wil weet. Al ons Jode is veilig, behalwe Mary Itallie wat na Pole gestuur is nadat sy op straat in hegtenis geneem is. Ons groep is steeds aktief, al kruip baie van die jong mans weg. Hy waarsku my om veranderings in die Beje te verwag. Nadat die polisiewag van die huis onttrek is, is ’n reeks gesinne wat geen blyplek gehad het nie daar
gehuisves. Hy dink egter die woonkwartier bokant die winkel is nou leeg. Selfs voordat die wagte onttrek is, het die getroue Toos van Scheveningen af teruggekom en die horlosiewinkel weer oopgemaak. Mnr Beukers, die oogkundige langsaan, het vir haar plek in sy winkel afgestaan van waar sy bestellings geneem en die horlosies na ons herstelmense se huise geneem het. Toe my oë aan die lig gewoond raak, kan ek my vriend se gesig duideliker sien. Miskien is daar ’n ekstra knop of twee op die eienaardig gevormde kop, en dalk is daar ’n paar tande weg, maar aan sy enorme goedhartigheid het die swaar houe geen verandering gemaak nie. Die limousine skuur byna deur die nou strate van Haarlem. Oor die brug van die Spaarne-rivier. Oor die Grote Markt in die skadu van Sint Bavo en dan in Barteljorisstraat af. Ek is uit die motor nog voordat dit behoorlik stilhou. Ek hardloop in die laan af, by die sydeur in, tot in Nollie se arms. Sy en haar dogters is al die hele oggend besig om uit te vee, vensters te was en lakens uit te hang – alles vir my tuiskoms. Oor Nollie se skouer sien ek vir Toos wat in die agterdeur staan. Sy lag en huil gelyk. Sy lag omdat ek by die huis is en sy huil omdat Pappa en Betsie, die enigste twee mense wat sy haarself gegun het om lief te hê, nooit weer hier sal wees nie. Saam stap ons deur die huis en die winkel. “Onthou julle hoe Betsie dié koppies altyd reggesit het?” “Onthou julle hoe Meta vir Eusie berispe het wanneer hy sy pyp hier laat lê het?” Ek staan op die trapportaal buite die eetkamer en streel met my hand oor die Frieslandse horlosie. Ek kan nog sien hoe Pappa hier gaan staan het met Kapteyn op sy hakke. “Ons moenie die horlosie laat afloop nie…” het hy gesê. Ek maak die glasdeksel oop en skuif die wysers volgens die tyd op my polshorlosie en trek dan die gewigte stadig op. Ek is by die huis. Soos vir die horlosie, het die lewe weer vir my begin. Soggens herstel ek horlosies en in die middae ry ek al stampend op my onvernietigbare fiets na Bos- en Hovenstraat. En tog… op ’n vreemde manier is ek ook nie by die huis nie. Ek wag nog, soek nog na iets. Ek loop dae lank in die lane af en al met die kanaalwalle in die
omgewing langs. Ek roep sonder ophou na Maher Shalal Hashbaz. Die bejaarde vrou wat drie winkels van ons af groente verkoop, vertel vir my die kat het die aand toe ons in hegtenis geneem is by haar deur gestaan en miaau. Sy het hom laat inkom. Maande lank, vertel sy, het die kinders van die buurt saamgewerk om vir “Oupa se kietsie” kos te bring. Hulle het afval uit asblikke gebring en selfs lekkernye uit hulle borde wat hulle by waaksame ma’s verby gesmokkel het. Hashbaz het blink en vet gebly. In die middel van Desember het hy een aand nie gekom toe sy na hom geroep het nie. Van toe af het sy hom nooit weer gesien nie. Ek soek egter voort, maar met ’n moedelose hart. In dié winter van Holland se hongersnood bring al my gesoek en geroep nie eens ’n enkele kat of hond te voorskyn nie. Ek mis meer as net die kat. Die Beje het mense nodig om sy kamers vol te maak. Ek onthou Pappa se woorde aan die Gestapo-offisier in Den Haag: “Ek sal my deur oopmaak vir enigeen wat hulp nodig het…” Niemand in die stad het ’n groter behoefte as die gestremdes nie. Van die begin van die Nazi-besetting af is hulle deur hul gesinne in die agterste kamers weggesteek. Hul skole en opleidingsentrums is gesluit. Hulle word versteek vir ’n regering wat besluit het hulle is die lewe nie werd nie. Gou bly ’n groep van hulle in die Beje. Hulle kan nog nie op straat uitgaan nie, maar hier is hulle ten minste in ’n nuwe omgewing en het hulle ’n soort program. Ek staan soveel moontlik van my tyd in die winkel aan hulle af. Steeds bly ek rusteloos. Ek is by die huis; ek werk; ek is besig. Of is ek? Dikwels betrap ek myself dat ek ’n uur by my werksbank gesit en sommer na niks gestaar het. Die herstelmense wat Toos raakgeloop het – almal deur Pappa geleer – is uitstekend in hul werk. Ek bring al hoe minder tyd in die winkel deur. Wat of wie ek soek, is nie daar nie. Ook nie in die boonste gedeelte van die Beje nie. Ek is lief vir die sagmoediges in my sorg, maar die huis self is nie meer vir my ’n tuiste nie. Ter herinnering aan Betsie koop ek vir elke vensterbank plante, maar ek vergeet om hulle water te gee en hulle gaan dood. Miskien mis ek die uitdaging wat die ondergrondse beweging my gebied het. Toe die nasionale groep my dus met ’n versoek nader, neem ek dit gretig aan. Hulle het vals ontslagdokumente vir ’n gevangene in die tronk in Haarlem. Wat kan eenvoudiger wees as om dié dokumente net om die hoek deur daardie
bekende houtdeure te neem? Maar toe die deure agter my toegaan, begin my hart al hoe vinniger klop. Wat as ek nie weer hier kan uitkom nie? Wat as ek betrap word? “Ja?” ’n Jong polisieluitenant met oranjerooi hare stap agter die ontvangstoonbank uit. “Het jy ’n afspraak?” Dis Rolf. Waarom hou hy hom so styf teenoor my? Is ek in die moeilikheid? Gaan hulle my in ’n sel toesluit? “Rolf!” sê ek. “Ken jy my dan nie meer nie?” Hy kyk na my asof hy sy geheue probeer verfris. “Natuurlik!” sê hy ongeërg. “Die vrou in die horlosiewinkel! Ek het gehoor die winkel was ’n tyd lank gesluit.” Ek gaap hom aan. Maar Rolf weet presies… en toe onthou ek waar ons is. In die voorportaal van die polisiestasie met tientalle Duitse soldate wat vir ons staan en kyk. En ek het een van ons groep op sy naam genoem, vir alle praktiese doeleindes feitlik erken daar is ’n spesiale verhouding tussen ons. En dit terwyl die heel belangrikste reël van die ondergrondse beweging is… Hoe kan ek so onnosel wees? Rolf neem die vervalsde dokumente uit my bewende hande en kyk vinnig daarna. “Dit moet deur die polisiehoof én die militêre opperbevelvoerder goedgekeur word,” sê hy. “Kan jy môremiddag vieruur terugkom? Die hoof sal by ’n vergadering wees tot…” Ek hoor niks verder nie. Met die woord “môremiddag” kry ek reeds koers deur se kant toe. Dankbaar gaan staan ek op die sypaadjie totdat my knieë ophou bewe. As ek ooit ’n bewys gesoek het dat ek geen moed het nie en nie slim is nie, het ek dit nou. Enige moed of vaardigheid wat ek ooit gehad het, was gawes van God, talente wat Hy aan my geleen het om ’n spesifieke taak uit te voer. Die algehele afwesigheid van enige vaardighede aan my kant op die huidige oomblik wys duidelik dat dit nie meer sy werk vir my is nie. Ek stap gedwee terug na die Beje. Toe ek by ons stegie indraai, weet ek oombliklik waarna ek soek. Betsie. Dis vir Betsie wat ek elke oomblik van elke dag mis, sedert ek na die hospitaalvenster toe gehardloop en ontdek het dat sy Ravensbruck vir ewig
verlaat het. Dis vir Betsie wat ek in Haarlem wil terugvind, hier in die horlosiewinkel en in die huis wat sy liefgehad het. Maar sy is nie hier nie. Vir die eerste keer sedert haar dood onthou ek: “Ons moet vir die mense vertel, Corrie. Ons moet vir hulle vertel wat ons beleef het…”
Daardie selfde week begin ek praat. As dit dan God se nuwe taak vir my is, sal Hy vir my die moed en die woorde voorsien. Deur die strate en voorstede van Haarlem ry ek al stampend op my fiets en bring die boodskap dat vreugde veel dieper strek as wanhoop. Dis ’n boodskap wat mense baie nodig het in die troostelose lente van 1945. Daar is geen Bruid van Haarlem-boom om die lug sy wonderlike geure te vul nie. Slegs die stomp wat te groot was om weggesleep te word vir vuurmaakhout bly oor. Daar is geen tulpe wat velde in kleurvolle tapyte omskep nie; die bolle is almal opgeëet. Daar is geen gesin sonder ’n eie tragedie nie. In kerke en klubs vertel ek die waarhede wat ek en Betsie in Ravensbruck ontdek het. By hierdie byeenkomste vertel ek altyd van Betsie se eerste visioen: ’n tuiste in Holland waar dié wat seergekry het weer sonder vrees kan leer leef. Aan die einde van een van my toesprake kom ’n skraal aristokratiese vrou na my toe. Ek ken haar van sien. Mev Bierens de Haan se huis in die voorstad Bloemendaal is glo een van die mooistes in Holland. Ek self het nog nooit die huis gesien nie, net die bome weerskante van die groot erf waar dit staan. Ek is dus sprakeloos toe die elegante vrou my vra of ek nog in die klein, baie ou huisie in Barteljorisstraat bly. “Hoe het u… ja, ek bly steeds daar. Maar…” “My ma het my dikwels daarvan vertel. Sy het dikwels daarheen gegaan om ’n tannie van jou te besoek. As ek reg onthou, het sy liefdadigheidswerk gedoen.” Soos ’n donderslag kom alles terug. Die sydeur wat oopgaan en die gesis van satyn en die geruis van vere wat inkom. ’n Lang rok en ’n hoed vol vere wat aan weerskante aan die nou trap raak. “Ek is ’n weduwee,” sê mev Bierens de Haan, “maar ek het vyf seuns in die
ondergrondse beweging. Vier van hulle leef nog en met hulle gaan dit goed. Van die vyfde het ons nog nooit weer gehoor sedert hy na Duitsland geneem is nie. Toe jy nou net gepraat het, het iets aanhoudend in my bly sê: ‘Jan sal terugkeer en uit dankbaarheid sal jy jou huis oopmaak vir hierdie visioen van Betsie ten Boom.’” Twee weke later lewer ’n seuntjie ’n gegeurde koevert by die sydeur af. Binnein, in skuins pers letters, staan ’n enkele reël geskryf: “Jan is by die huis.” Mev Bierens de Haan wag my persoonlik in by die ingang na haar landgoed. Saam stap ons in ’n laan van stokou eike af. Bokant ons koppe vorm die takke ’n dak. Toe ons om die laaste draai gaan, sien ons dit – ’n herehuis met ses en vyftig kamers in die middel van ’n yslike grasperk. Twee bejaarde tuiniers krap in die blombeddings rond. “Ons het die tuin laat verwaarloos,” sê mev Bierens de Haan, “maar ek dink ons sal dit weer kan regruk. Dink jy nie dit sal uitstekende terapie vir die vrygelate gevangenes wees nie?” Ek antwoord nie. Ek kyk op na die geweldak en die loodraamvensters. Sulke groot, groot vensters… “Is daar…” My keel is skielik droog. “Is daar ingelegde houtvloere en ’n breë galery om die middelste portaal en reliëfstandbeelde al om die muur?” Mev Bierens de Haan kyk verbaas na my. “Jy was al hier! Maar ek onthou nie…” “Nee,” sê ek, “ek het net gehoor by…” Ek bly stil. Hoe kan ek verklaar wat ek nie verstaan nie? “Iemand wat al hier was,” sê die vrou, sonder om my verwarring te begryp. “Ja,” antwoord ek, “van iemand wat al hier was.”
In die tweede week in Mei 1945 neem die Geallieerdes Holland in. Die Hollandse vlag hang by elke venster uit en die “Wilhelmus” word dag en nag oor
die bevryde radiostasie gespeel. Die Kanadese leer bring onmiddellik die kos wat hulle langs die grense opgeberg het na die stede. In Junie kom die eerste van baie honderde mense by die pragtige huis in Bloemendaal aan. Party is doodstil; ander praat aanhoudend oor hulle verliese; sommige is in hulleself gekeer; ander is erg aggressief. Elkeen is ’n geskende mens. Nie almal was in konsentrasiekampe nie. Party het twee, drie of selfs vier jaar op solders en in agterkamertjies hier in Holland weggekruip. Een van hulle is mev Kan, die weduwee van die horlosiemaker wat in dieselfde straat as die Beje was. Mnr Kan het gesterf waar hulle weggekruip het en sy het alleen teruggekom, ’n krom vroutjie met spierwit hare. Sy skrik vir elke geluid. Ander kom na Bloemendaal met littekens aan liggaam en siel, veroorsaak deur bomaanvalle, die verlies van geliefdes of enige ander ontwrigting tydens die oorlog. In 1947 begin Hollanders aankom wat gevangenes van die Japannese in Indonesië was. Al is dit nie so beplan nie, lyk dit of Bloemendaal die beste omgewing is vir dié wat in Duitsland gevangenes was. Terwyl hulle net by mekaar was, was hulle geneig om hulle spesifieke swaarkry te herleef, maar in Bloemendaal word hulle daaraan herinner dat hulle nie die enigstes is wat swaargekry het nie. Vir al hierdie mense lê die sleutel tot genesing in dieselfde oplossing. Elkeen het ’n wond waarvoor hy of sy iemand moet vergewe: die buurman wat hulle verklik het, die onmenslike wag, die sadistiese soldaat. Snaaks genoeg is dit nie die Duitsers of Japannese wat hierdie mense so moeilik vind om te vergewe nie, maar hulle mede-Hollanders wat by die vyand aangesluit het. Ek sien hulle dikwels op straat, die NSB-lede met hul kaalgeskeerde koppe en hul ontwykende oë. Dié voormalige medewerkers is nou in ’n haglike situasie. Hulle is uit huise en woonplekke verdryf, kan nie werk kry nie en word op straat uitgejou. Eers het ek gedink ons moet hulle ook na Bloemendaal toe nooi, sodat hulle sy aan sy kan leef met dié wat hulle so verontreg het, sodat ons ’n nuwe deernis aan albei kante kan kweek. Maar ek besef dadelik dit is nog gans te gou vir mense wat self nog hul pad probeer terugvind. Die twee keer dat ek dit wel probeer het, het dit op ’n openlike bakleiery uitgeloop. Die oomblik toe inrigtings en skole vir verstandelik gestremdes weer oopmaak, gooi ek ook die deur van die Beje
oop vir die voormalige NSB-lede. Dis dan hoe dit gaan in die jare ná die oorlog. Ek eksperimenteer, maak foute, leer uit my foute. Die dokters, psigiaters en dieetkundiges wat gratis na enige plek kom wat oorlogslagoffers versorg, spreek dikwels hul verbasing uit oor die vryheid in ons inrigting. Tydens die oggend- en aandgodsdiens loop mense in en uit, hul tafelmaniere is soms afstootlik en een man gaan elke oggend om drie-uur vir ’n wandeling deur Haarlem. Ek kan myself net nie sover bring om ’n fluitjie te blaas of iemand te berispe nie. Ek kan nie eens aan hekke of ’n klokreël dink nie. Maar sowaar, op hul eie tyd en op hulle eie manier verwerk die mense die pyn wat diep in hulle verborge lê. Dit begin meestal, soos Betsie geweet het dit sou, in die tuin. Namate blomme ontluik en groente ryp word, gaan die gesprekke al hoe minder oor die galbitter verlede en al hoe meer oor môre se weer. Namate hul horisonne verbreed, vertel ek vir hulle van die mense wat in die Beje bly, mense wat nog nooit besoekers gehad het nie, wat nog nooit ’n brief ontvang het nie. Toe ons die dag weer van die NSB-lede praat en niemand bars in eiegeregtige woede uit nie, weet ek die mense se genesing is nie meer ver nie. En die dag toe iemand sê: “Daardie mense van wie jy gepraat het… ek wonder of hulle nie graag ’n paar bossies wortels uit ons tuin wil hê nie,” weet ek die wonderwerk het gebeur.
Ek hou aan praat, deels omdat die huis in Bloemendaal van bydraes afhanklik is en deels omdat die honger na Betsie se verhaal mettertyd groei. Ek reis kruis en dwars oor Holland, ook na ander dele van Europa en die VSA. Die plek waar die honger egter die grootste is, is Duitsland. Duitsland is ’n verpletterde land met stede van puin en as, maar nog skokkender is die stukkende harte. As ’n mens maar net die grens oorsteek, voel jy reeds die swaar las wat oor die land hang. Dit is by ’n erediens in München dat ek hom sien, die voormalige SS-soldaat wat by die stortkamer se deur in die sentrum vir nuwe aankomelinge in Ravensbruck wag gestaan het. Hy is die eerste van ons tronkbewaarders wat ek sedert daardie tyd sien. Skielik spoel al die herinnerings weer oor my – die kamer vol spottende mans, die hoop klere, Betsie se pynbleek gesig.
Hy kom ná die diens na my toe. Hy glimlag en buig effens. “Hoe dankbaar is ek vir jou boodskap, Fraulein,” sê hy. “Om te dink, soos jy gesê het, Hy het my sondes afgewas!” Hy steek sy hand uit om myne te neem. En ek, die een wat so dikwels met die mense in Bloemendaal oor vergifnis praat, hou my hand langs my sy. Maar terwyl die bose, wraaksugtige gedagtes in my opvlam, sien ek hoe sondig dit is. Jesus Christus het vir dié man gesterf. Gaan ek dan vir meer vra? Here Jesus, bid ek in my gedagtes, vergewe my, en help my om hom te vergewe. Ek probeer glimlag; ek worstel om my hand op te lig. Ek kan nie. Ek voel niks nie, nie die flouste vonkie van warmte of naasteliefde nie. Weer stuur ek ’n stil gebed op. Jesus, ek kan hom nie vergewe nie. Gee vir my u vergifnis. Toe ek sy hand neem, gebeur die ongelooflike. Vanaf my skouer, al met my arm af en deur my hand vloei ’n stroom van my na hom toe en ’n oorweldigende liefde vir dié vreemdeling ontspring in my hart. Só ontdek ek dit is nie ons vergifnis of ons goedheid waarom die wêreld se genesing draai nie, maar om God se vergifnis en goedheid. Wanneer Hy vir ons sê ons moet ons vyande liefhê, gee Hy saam met die opdrag die liefde self. Dit verg immers baie liefde. Die dringendste behoefte in die Duitsland ná die oorlog is woonplek. Daar word beraam dat nege miljoen mense geen woonplek het nie. Hulle bly op puinhope en in verlate leërvragmotors. ’n Kerkgroep vra my om te kom praat met honderd gesinne wat in ’n leë fabrieksgebou woon. Hulle hang lakens en komberse tussen die onderskeie woonkwartiere om ’n mate van privaatheid te bewerkstellig. Maar die geluide kan nie afgesonder word nie: die geskreeu van ’n baba, die lawaai van radio’s, die woede van ’n gesinsrusie. Hoe kan ek met hierdie mense oor die werklikheid van God praat en teruggaan na my stil kamer in die kerkhostel buite die stad? Nee, voordat ek met hulle kan praat, moet ek eers tussen hulle gaan woon. Dit is tydens die maande in die fabriek dat die direkteur van ’n noodverligtingsorganisasie met my kom praat. Hulle het van my rehabilitasiewerk in Holland gehoor, sê hy, en hulle het gewonder… Ek maak reeds my mond oop om te sê ek het geen beroepsopleiding in daardie rigting nie
toe sy volgende woorde my stilmaak. “Ons het die ideale plek vir hierdie werk van jou raakgeloop,” sê hy. “Dis ’n voormalige konsentrasiekamp wat die regering so pas ontruim het.” Ons ry Darmstadt toe en kyk na die kamp. Rolle verroeste doringdraad strek steeds daarom. Ek loop stadig met ’n sintelpad op tussen grys barakke deur. Ek stoot ’n krakende deur oop. Ek loop tussen die rye metaalbedjies deur. “Tuinkassies,” sê ek. “Ons sal by elke venster een hê. Die doringdraad moet natuurlik weg. En ons sal verf nodig hê. Groen verf. Heldergroen verf. Die kleur van dinge wat nuut uitspruit in die lente…”
Later…
Saam met ’n komitee van die Duitse Lutherse Kerk het Corrie ten Boom die kamp in Darmstadt in 1946 geopen as ’n tuiste en ’n plek van hernuwing. Dit het bly bestaan tot in 1960 toe alles gesloop is om plek te maak vir nuwe geboue in ’n florerende nuwe Duitsland. In die huis in Bloemendaal is aanvanklik uitsluitlik oudgevangenes en ander oorlogslagoffers opgeneem. Eers in 1950 is ook ander mense wat rus en sorg nodig gehad het daar toegelaat. Willem is in Desember 1946 aan rugmurgtering oorlede. Sy laaste boek, ’n studie oor offers in die Ou Testament, het hy gestaan en skryf omdat die pyn so erg was dat hy dit onmoontlik gevind het om by sy skryftafel te sit. Net voor sy dood het Willem sy oë oopgemaak om vir Tine te sê: “Dit gaan goed… dit gaan baie goed met Kik.” Eers in 1953 dat die gesin vasgestel het dat dié twintigjarige seun beslis in die konsentrasiekamp in Bergen-Belsen gesterf het. Vandag is daar ’n “Ten Boomstraat” in Hilversum ter nagedagtenis aan Kik. Weens sy ervarings in die oorlogtyd het Peter van Woerden sy musikale talent aan God opgedra. Hy het baie geestelike liedere gekomponeer, onder meer ’n toonsetting van die Psalms en Spreuke. Peter, sy vrou en hulle vyf kinders het as singende groep deur Europa en die Nabye Ooste gereis om die boodskap van God se liefde te bring. In 1959 was Corrie deel van ’n groep wat Ravensbruck, nou in Oos-Duitsland, weer besoek het om die dood van Betsie en ses en negentig duisend ander vroue te herdenk. Daar het Corrie uitgevind dat sy weens ’n “istratiewe fout” vrygelaat is. ’n Week later is alle vroue van haar ouderdom na die gaskamers geneem. Toe sy reeds iets in die tagtig was, het Corrie steeds haar onvermoeide reise voortgesit, gehoorsaam aan Betsie se volkome sekerheid dat hulle “vir die mense moet vertel”. Sy het in een en sestig lande weerskante van die Ystergordyn
gewerk en die mense van Jesus geleer. Met wie sy ook al praat – swart studente op die oewer van die Victoriameer, boere in ’n Kubaanse suikerland, gevangenes in ’n Engelse tronk, of fabriekswerkers in Uzbekistan – sy het die waarheid uitgedra oor wat hulle in Ravensbruck geleer het: Jesus kan neerlaag en verlies in oorwinning en heerlikheid verander. Corrie sterf op haar 91ste verjaardag op 15 April 1983 aan ’n beroerte.
Drie maniere om hierdie boek in jou lewe toe te pas
Die waarde van Corrie ten Boom se lewe is nie dat sy ’n buitengewone mens was nie maar, in haar eie woorde, “juis ’n baie swak en gewone mens”. Die waarhede wat sy in haar lewe ontdek het, kan ook in ons lewe wortelskiet. Om hierdie boek besonderse betekenis in jou lewe te laat kry is nie so moeilik nie: Vervang bloot die besonderhede van Corrie se storie met spesifieke familiesituasies, werkprobleme, hindernisse of geleenthede wat God oor jou pad bring. Hier is drie voorbeelde hoe jy dit kan doen:
1 God regeer oor alles, selfs oor dié mense wat in ons oë sinloos optree of wreed is. Maak hieronder ’n lys van jou “moeilikste vrae”. Dalk vra jy hoekom kinders in oorloë moet ly of hoe ’n liefdevolle God ’n orkaan kan toelaat. Sluit ingewikkelde persoonlike vrae in: ’n siekte in jou familie, ’n motorongeluk, ’n onderneming wat misluk het. Laat gaan nou hierdie laste een vir een uit jou hande en gee dit oor aan God se sorg. “Here, net omdat ek nie die antwoorde op hierdie vrae het nie, beteken nie daar is geen antwoorde nie. U weet hoekom, Here, en wanneer ek sterk genoeg – wys genoeg, liefdevol genoeg – is, sal U vir my die antwoord gee.” Skryf neer (1) die antwoorde en gedeeltelike antwoorde wat jy op die vrae hierbo ontvang (sluit datums in), en (2) enige nuwe vryheid, energie of krag wat jy ontvang om ander probleme te hanteer.
2 God gee vir ons genade om ons huidige nood te hanteer; ook om ons smart en probleme te dra skenk Hy vir ons krag. Maar, soos Corrie se pa tydens hulle weeklikse reis na Amsterdam gesê het, God gee eers vir ons die kaartjie net voordat ons op die trein klim.
Skryf 10 probleme neer wat angs in jou lewe veroorsaak. (Slaap jy te min? Is jou dae met kommer gevul?)
Lees nou weer deur jou lys terwyl jy hierdie vraag vra: Hoeveel van hierdie probleme behoort aan vandag? Met hoeveel van hierdie vrae hardloop jy God se voorsiening vooruit?
3 God se wil is dat ons sal dankie sê. Ons lof en dankbaarheid maak op ’n geheimsinnige manier die deur vir God oop om ons te seën soos Hy graag wil. Skryf die vyf dinge neer waaroor jy op die oomblik die dankbaarste is.
Raak ’n hele paar keer deur die dag stil om vir God dankie te sê vir hierdie seëninge. Kyk dan hoe jou bewussyn van die goedheid en liefde in hierdie wêreld – en veral van God se liefde – begin groei.
Beskryf vyf huidige situasies in jou lewe waaroor jy beslis nie dankbaar is nie.
Kweek nou in jouself die dissipline om elke dag ook vir hierdie dinge dankie te sê. Sien raak hoe God jou nuwe ingesteldheid kan gebruik om die feite te verander.
Opsomming
Corrie ten Boom en haar doodgewone gelukkige gesin bly bo haar pa se horlosiewinkel met die uitbreek van die Tweede Wêrerldoorlog. Hulle word genader deur die Nederlandse versetbeweging om te help met om vervolgde Jode weg te steek. Sonder om twee keer te dink reik hulle uit na dié mense in hul verskriklike nood. Dan word hulle verraai … Corrie ten Boom se verstommende ware verhaal van liefde en hoop leer ons om op God te vertrou in alle omstandighede, selfs in ’n Nazi-konsentrasiekamp.
Dié storie oor die wonder van onvoorwaardelike liefde is vandag net so relevant as in Nazi-Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog. Jy sal dit nooit vergeet nie.
Oor die skrywer
Corrie ten Boom is gebore in Haarlem, Nederland in 1892, in ’n baie gelowige gesin. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog help hulle gesin die Nederlandse versetbeweging om Jode te versteek en te verskuif. Hulle word verkla en die hele gesin word in hegtenis geneem. Corrie oorleef om die verhaal te vertel en skryf nog baie ander boeke.
Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms) Bpk, Heerengracht 40, Kaapstad 8001 Posbus 551, Kaapstad 8000 www.luxverbi.co.za
Eerste Afrikaanse uitgawe vertaal deur dr PD Swart, uitgegee deur Varia boeke Kopiereg © 2014 deur Lux Verbi
Skrifaanhalings in hierdie publikasie kom uit die Bybel in Afrikaans © 1983 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting.
Teksversorging deur Hester Fourie Omslag deur Mathie Steenkamp
E-boekontwerp deur Trace Digital Services
Ook beskikbaar in druk: Eerste uitgawe in 2014 ISBN: 978-0-7963-1908-1
Epub-uitgawe: Eerste uitgawe in 2014 ISBN: 978-0-7963-1909-8 (epub)
Mobi-uitgawe: Eerste uitgawe in 2014 ISBN: 978-0-7963-1910-4 (mobi)