François Bloemhof
Human & Rousseau
Vir almal wat skrikkerig is vir hospitale. Ek is ook . . . F.B.
1
Nóg iemand
Rudi loop in die gang af. Hy is uitgeput en sy rugsak weeg ’n ton. Al die periodes het vandag lank gevoel, en toe was daar ook nog die skyfskietoefening na die tyd. Hulle het nou net klaar geoefen en sy skoolklere is vaal van die stof. Van die ander seuns het op gras gelê terwyl hulle na die teikens mik, maar Rudi het net harde grond gehad. Hy wou so graag vanmiddag se kompetisie wen, maar toe klop daai simpel Werner Kok hom weer! Dis g’n wonder Werner se bynaam is Ou Skerpoog nie – hy het die teikens die een na die ander omgeklits. Rudi was darem tweede, maar dis nie goed genoeg nie. Dêm, dis nie regverdig nie! Hy vaar vrot in al sy vakke, so hoekom kan hy nie maar hiér die beste wees nie? In die gang is ’n groot kennisgewingbord wat sê: Wees versigtig! Loop op die sypaadjie! Hy is amper by die hoof se kantoor. As iemand verlede jaar vir hom gesê het hy gaan ’n meisie hê wie se ma die skoolhoof is, dan het Rudi in sy gesig gelag. Maar toe kom Suné op die dorp aan, en is boonop in sy klas. Dit was of Cupido hom met ’n honderd pyle deur die hart geskiet het. Op die kantoordeur is ’n metaalplaatjie: MEV. I. STEYN – PRINSIPAAL Haar naam is Igora, het Rudi by Suné gehoor. Hy noem haar Ou Igora die Angora. Rudi lag elke keer as hy daaraan dink. Mevrou Steyn het nie verniet sulke lang, krullerige hare nes ’n sybok nie. Hy kom by die deur tot stilstand. Hy hoor die hoof oor die telefoon praat en besluit om te wag tot sy klaarmaak.
“Roer jou!” hoor Rudi haar sê: “Hy is op pad. Hy’s nou net hier by die hek uit.” Daar is ’n klikgeluid, toe klop Rudi aan die oop deur. “Mevrou?” “Aarg!” roep sy uit van waar sy by die venster staan. Haar hand rus nog op die telefoon. Sy is meteens doodsbleek. “Rudi, hoe laat skrik jy my! Ek . . . ek’t gedink ek is alleen in die gebou.” “Ons het skyfskiet gehad, Mevrou.” “O ja, dis reg. Wat kan ek vir jou doen?” vra sy fronsend. “Ek wou net gevra het of dit orraait is . . . of dit goed is as ek gou by Suné ’n draai gaan maak.” “Natuurlik.” Sy is skielik weer vriendelik. “Jy weet mos jy kan enige tyd. Dit beteken altyd vir Suné geweldig baie.” Rudi voel hoe hy ’n grinnik op sy gesig kry. Die Steyns is ryk mense; mense van aansien, soos sy ma dit stel. Hy kan nie glo dis orraait met hulle dat hy en Suné uitgaan nie. “Dankie, Mevrou. Tot siens, Mevrou.” “Tot siens, Rudi.” Toe hy by die hoofingang uitstap, sien hy nog ’n kennisgewing: Wees versigtig! Loop op die sypaadjie! Hy steur hom min daaraan en draf hek toe. Toe maar, eendag sal hy vir die heel laaste keer hier uitgaan, dan sien hierdie plek hom nooit weer nie. Hy kan nie wag om klaar te maak met skool nie. Op pad na Suné se huis merk hy soos altyd op hoe groot die huise en tuine hier rond is. Hy en sy ma bly in ’n deel van die dorp wat nie so mooi is nie. Niemand noem dit die arm deel nie, maar hy weet mos. Jy sien dit nie net aan die kleiner huise wat ’n laag verf nodig het nie, maar ook aan die mense se karre en klere. ’n Ent voor hom gewaar hy vir Werner, Ou Skerpoog. Rudi wil hom eers roep,
maar hy’s nie nou lus vir geselsies maak nie en veral nie met Werner nie. Buitendien, by die T-aansluiting draai die seun regs en Rudi gaan links om by Suné-hulle se huis te kom. Dêm, sy skoenveter is los. Hy sit sy rugsak op die teerpad neer, buk af en begin die veter vasmaak. Dan hoor hy iemand gil. En ’n harde stampgeluid. Hy spring vervaard regop. Was daar ’n ongeluk? Hy hardloop na die T-aansluiting en raak koud toe hy sien wat gebeur het. Werner lê op die grond. Rudi hoor die geluid van skreeuende bande en weet hy was nét te laat om die motor wat Werner omgery het om die hoek te sien verdwyn. “Werner! Hel, man!” Hy buk oor die seun, maar onthou betyds om hom nie te verskuif nie. Dit kan sy beserings net vererger. “Eina, au!” kreun Werner. Dan gaan sy oë toe. “Hei!” Rudi raak nog kouer. Vir ’n oomblik dink hy Werner is dood, maar dan besef hy die ou het seker net sy bewussyn verloor. “Wat gaan aan?” hoor hy ’n bekommerde stem. ’n Vrou het in haar tuin verskyn. “O, my genade!” roep sy uit toe sy hulle sien. “Tannie, bel gou ’n ambulans!” Die vrou gaan haastig binnetoe, en Rudi dink aan die waarskuwings oral in die skool. Hy kan nie glo nóg iemand is omgery nie . . .
2
Die huis langs die hospitaal
“En toe?” vra Suné. “Wat gebeur tóé?” Rudi haal sy skouers op. “Ek het maar daar by Werner gesit tot die ambulans gekom het. Daar was niks wat ek verder kon doen nie.” “Dis goed jy’t by hom gewag. Dit was die regte ding om te doen.” “Hy was anyway uit. Bewusteloos of iets.” Rudi bloos. Hy is so gewoond daaraan om dinge verkeerd te doen, dat hy nooit weet hoe om komplimente te hanteer nie. Hulle is in Suné se slaapkamer. Dis vir Rudi erg om haar só te sien, waar sy heeldag en aldag in die bed moet lê. Daar is ’n verband om haar oë, hulle moet rus. Waf! Dis Suné se poedel, Wagter. Vir die snaaksigheid het sy hom so ’n groothondnaam gegee. Wagter is oral waar sy is – en dit beteken hy is pal hier in haar slaapkamer. Nes die hond, voel Rudi ook soms hy sal enigiets vir Suné doen. “Ek het die ambulans gehoor.” Sy beduie na die venster. Haar pa is ’n dokter en hulle huis is reg langs die hospitaal. Dit het nogal ’n opskudding veroorsaak toe die Steyns hierheen getrek het: die man die nuwe dokter, ’n spesialis, en sy vrou die skoolhoof. Die dorpsmense het nie geweet hóé hulle moet regstaan nie. En toe is hulle dogter die eerste skoolkind wat omgery word. Die eerste van drie sover. Dit kan nie almal ongelukke wees nie! As die polisie net die skuldige kan vang. Watter soort mens jaag net weg?
Een dag was Suné nog kaptein van haar netbalspan, en die volgende dag moes Rudi haar só sien. Al is haar pa ’n goeie dokter, kan hy nie toor nie. “Wat dink jy so diep?” vra sy. “Jy weet mos ek dink nooit diep nie!” Hy het vroeg reeds vrede daarmee gemaak dat hy nie slim is nie. Wel, álmal kan nie skerp wees nie. Sy onderwysers het eers gesê hy steek lyf weg, toe het sy ma hom ’n klomp toetse laat aflê. Die uitslae was almal tussen flou en vrot. Nie dat dit hom onderkry nie! Hy is heel tevrede die meeste van die tyd. Al hét dinge tussen sy pa en ma nie uitgewerk nie. En al lê Suné nou hier, is daar altyd ’n kans dat sy weer sal regkom. “Hoe het dit met die wiskundetoets gegaan?” vra sy. Hy sug. “Gepluk, soos altyd.” “Ek sal niks aan jou verander nie, weet jy dit?” Sy draai haar kop in sy rigting. “Waar val jy nou uit?” Dit maak hom soms ongemaklik as sy so reguit praat . . . maar dit laat hom eintlik ook goed voel. “Van die ander ouens is té slim. Dis eintlik die meeste van die tyd skelmgeit. As jý iets sê, bedoel jy dit.” Sy het sulke mooi oë en nou kan hy hulle nie eens sien nie. Rudi kyk af grond toe. Die tapyt moet baie duur gewees het, nes al die ander goed in die huis. Dokters verdien mos groot geld. Skoolhoofde moet ook ’n goeie salaris kry. Oral in die gang hang duur, oorspronklike skilderye. Al wat fout is, is dat die huis soos ’n hospitaal ruik. Eers was dit net op sekere plekke, maar nou is die reuk hiér. Langs die bed is ’n nuwe houertjie met kapsules. Rudi vra nie waarvoor dit is nie. Hy weet Suné het baie pyn. ’n Deuntjie wat sy ma kleintyd ’n paar keer vir hom gesing het wanneer hy siek
was, kom by hom op. Dit was glo eers die kenwysie van ’n radioprogram vir siek mense. Daar’s ’n lied en ’n glimlag vir jou in Hospitaaltyd, onthou . . . Verkleur die wolke van grys tot blou in Hospitaaltyd, onthou . . . Rudi hoor ’n ambulans. Eers dink hy dis die een wat Werner opgelaai het, maar hy besef dit moet ’n ander een wees. “Ek moet waai.” “So gou al? Jy’s al geselskap wat ek kry. Ek is al so moeg van na die radio luister!” Hoekom sy? dink hy by homself. Hoekom het daai padvark háár gekies om raak te ry? Dis nie net haar bene wat daardie dag seergekry het nie. Haar oë ook. Dis glo die een of ander senuwee. Haar pa het verduidelik, maar Rudi het nie mooi verstaan nie. Na die ongeluk was haar gehoor ook aangetas, maar gelukkig hoor sy nou weer so goed soos altyd. Rudi staan op en loop om die bed. Die poedel grom dadelik. “Ag, koel af, Wagter, ek sal niks aan jou ounooi doen nie!” Hy vat Suné se hand en soen haar op die voorkop. Hy wil haar ’n drukkie gee, maar haar arm is nog in ’n hangverband. “Ek kom gou weer kuier.”
3
Opwastyd
“Bring die borde deur,” sê Rudi se ma toe sy die tafel klaar afgedek het. Hulle gaan kombuis toe, waar Rudi skottelgoed was en sy afdroog. Sy hou nie daarvan om haar hande te laat nat word nie. Haar rooi geverfde naels is baie lank en sy is bang hulle breek of die naellak dop af. “Hoe het dit by die skool gegaan?” Sy vra elke aand dieselfde vraag. “Orraait.” “Enige toetse geskryf?” “Nee,” jok hy. Hulle het verlede week ’n uitval gehad oor sy skoolwerk. “Het jy klaar huiswerk gedoen?” “Ja, Ma . . .” “En geleer?” “Jaaaaa.” Sy ma het hom nooit so oor skoolwerk opgeskroef toe sy pa nog by hulle was nie, maar twee jaar gelede het sy pa haar vir iemand anders gelos. Nou sê sy ma aanmekaar dinge soos dat hy ’n sukses van sy lewe moet maak sodat hy nie ook eendag soos sy iemand se slaaf hoef te wees nie. Sy is ’n ontvangsdame by ’n prokureursfirma. “So ja,” sê sy toe sy die laaste bord afgedroog het. Sy steek ’n sigaret aan. Dis haar sewende of agste vandat sy tuisgekom het. “Ma rook te veel.” Sy blaas ’n wolk rook uit. “Wat kan jy my nog vertel? Hoe gaan dit met jou meisietjie?”
“Orraait.” Rudi hou nie daarvan as sy ma Suné sy meisietjie noem nie, al bedoel sy dit nie sleg nie. “Sy kan al beter hoor. Sy luister nou baie radio.” “O.” Sy ma is eintlik mooi. Hy was ’n paar weke gelede verbaas toe hy dit agterkom. Dit was die eerste keer dat hy só na haar gekyk het. Haar hare is baie blond. Eintlik meer geel as blond. Haar oë is diepblou, en sy beklemtoon hulle met dik wimpers en groen oogskaduwee. En Rudi het haar nog nooit sonder helder rooi lipstiffie gesien nie, nie eens as sy soggens opstaan nie. Hy kan nie verstaan hoe sy pa haar kon verneuk nie. En dit nogal met ’n simpel meisiekind met vaal hare en bruin oë. “Ma?” “Hmm?” Sy is besig om haarself in die spieël te bekyk. Hy weet sy is bang vir plooie kry. “Ons klas moet Saterdag uithelp by die basaar. Dis vroeg die oggend. Kan Ma my met die kar vat?” “Nee.” Hy wonder hoekom haar stem skielik so skerp is. “Vir wat nie?” “Omdat ek nee sê!” skree sy. Rudi kyk haar verstom aan. Sy het nog nooit van bestuur gehou nie, en ’n ruk gelede het sy opgehou om dit te doen. Sy bestuur selfs nie meer werk toe nie. Maar hy het tog nie ’n onredelike vraag gevra nie. Hy is nog meer verstom toe hy sien daar is trane in haar oë. Sy druk haar sigaret lomp dood in die bietjie water wat in die wasbak oor is. “Jou pa het al weer nie onderhoud betaal nie! Hy weet goed ons kan nie op my ou salarissie uitkom nie. Maar hy weet ook ek sal hom nie hof toe vat daaroor nie. Ek sal nie die stres kan vat nie! Ek werk my klaar dood en ek . . .”
Hy weet sy skel nou sommer oor alles wat in haar lewe verkeerd is. “Toe maar, Ma . . .” “Moet my net nie staan en jammer kry nie!” “Ma, oor Saterdag . . .” “Ek ry jou nie rond nie. Jy’s nie ’n klein prinsie nie en ek is g’n jou chauffeur nie!” Sy storm by die kombuis uit. “Oukei, ek sal loop!” skree hy agter haar aan. ’n Oomblik later voel hy sleg daaroor. Dis seker nie maklik om hom alleen te moet grootmaak nie. En al wat hy vir haar teruggee, is swak punte.
4
Nooit weer dieselfde nie
Vroegoggend is die skoolterrein al besig. Rudi en sy klasmaats het hulle tasse in rye neergesit en staan en gesels. “Werner se ma het my oulady gisteraand gebel,” sê een van die seuns. “Hy kom vandag skool toe.” “Gnf!” laat hoor iemand anders. “Hy gaan die ongeluk vir die res van die jaar as verskoning gebruik om niks te doen nie!” Almal lag. Dis al twee weke sedert Werner omgery is. Wanneer die skool se leerders deesdae op straat kom, is hulle ekstra versigtig – soos wat al die waarskuwings sê. Toe roep iemand uit: “Daar’s hy!” Hulle kyk almal na die hek, waar Werner met krukke ingehobbel kom. Hy merk hulle egter eers op toe hy omtrent reg by hulle is. “Nou ja, ek’s terug.” Sy bene is albei in gips, maar hy vertel dit sal nie lank wees voor dit afkom nie. “Die dokter sê ek sal volgende kwartaal al kan rugby speel!” Rudi en Werner bly agter toe die ander loop om ’n sokkerbal te gaan skop. Al was hulle nooit juis pelle nie, voel dit vir Rudi dat wat daardie middag gebeur het, hulle op ’n manier laat vriende word het. Werner lag toe Rudi ’n pen uit sy sak haal en ’n stokmannetjie op sy gips teken. “Jy sê jy’t nie gesien hoe lyk die ou wat jou omgery het nie?” Werner sug. “Nee. Dit was te vinnig.” “En die kar?” “Ook nie.”
Die klok lui. “Kom ons gaan rye toe,” sê Rudi. “Jip. Ons moet seker maar.” Rudi keer toe Werner sportveld se kant toe wil loop: “Nee, dié kant toe.” “Ek maak net ’n grappie.” Verbeel Rudi hom, of klink Werner half onseker? En hoekom loop hy so teenaan hom, asof hy hom rye toe volg eerder as dat hy sáám met hom loop? Hulle is net betyds vir die instapklok. Die ander in hulle klas trek al doer, toe kom Werner eers met sy krukke by die trappe aangesukkel. Rudi volg hom geduldig – enigiets om skooltyd te mors. Pardoef, loop Werner in ’n deur vas. “Eina!” “Hei!” Rudi keer, want dit was so amper of hy ploeg neer. Hy kry Werner aan sy arm beet en hou hom regop. “Jis! Dankie.” “Is jy orraait?” Werner skud sy kop, maar sê: “Ja.” “Hoe het jy dan gemaak?” Werner vererg hom. “Dink jy ek het dit aspris gedoen?” “Jy’s mos nie verniet Ou Skerpoog nie. Hoe’s dit dan dat jy nou in deure vasloop?” “Vandat ek uit die hospitaal gekom het, is my bene beter, maar . . . ek kan nie so lekker sien nie. Dis of ek deur digte mis loop. Maar die dokter sê ek moet my nie daaroor bekommer nie. Dit sal een van die dae oorgaan. Kom, ons mors tyd.” Op pad klas toe kom daar ’n ry kinders van voor af. Tom Stander is een van
hulle. Hy is die ander kind wat omgery is, ongeveer twee weke voor Werner. Hy het tot ’n rukkie gelede ook met krukke geloop. “Hei, Tom!” sê Rudi onderlangs toe hy langs hom is. “Hoe’s dinge?” Maar Tom bly voor hom kyk en reageer nie. Dan onthou Rudi dat hy nie meer so goed kan hoor vandat hy in die ongeluk was nie. Rudi kyk Tom agterna. Hy het skielik aan iets gedink. Dit lyk vir hom as jy in ’n ongeluk was, is jy nooit weer dieselfde nie. Kyk nou maar vir Suné. En dowe Tom daar oorkant. Vroeër het sy ore niks makeer nie. “Rudi?” Hy spring amper in die lug toe die stem agter hom kom. Hy tol om. “O, hallo, ek meen, môre, mevrou Steyn.” Sy glimlag nie. “Moet jy nie by jou klas uitkom nie?” “Ja, Mevrou.” Hy kyk in die gang af. Werner het sowaar al tot by hulle klaskamer gevorder. “Nou ja toe?” Sy beduie hy moet loop. Rudi kyk haar verbaas aan. “Onthou, hier is ek nie Suné se ma nie.” Daar is ’n vreemde kyk in mevrou Steyn se oë. “Hier is ek die skoolhoof, en hier maak jy soos ek sê.” “Ja, Mevrou.” Rudi loop vinnig klaskamer toe. Hy voel haar oë op sy rug. Na die dag toe hy haar in haar kantoor laat skrik het, is sy nie meer so vriendelik soos altyd met hom nie. Toe hy by die klaskamer se deur omkyk, staan sy hom nog altyd en dophou.
5
’n Wonderwerk
Rudi het skaars die voordeurklokkie gelui of die deur gaan oop. “Middag, Dokter.” Rudi kon dit nog nooit regkry om hom “Oom” te noem nie, net so min as wat hy vir die skoolhoof “Tannie” sou kon sê. “A, dis jy, seun,” sê dokter Steyn bo-oor sy bril. “Kom deur na Suné toe. Ek het vir jou ’n verrassing.” Rudi volg hom in die breë gang af. Die dokter dra sy wit jas. Rudi het hom nog nooit daarsonder gesien nie. “Ek het vanoggend haar oogverbande afgehaal . . .” Hy lei Rudi die kamer binne. “Ek is baie in my skik!” Daar sit Suné. Sy glimlag. Sy het maande laas so gelukkig gelyk. “Rudi! Dis ’n wonderwerk! Ek kan weer sien nes altyd! Selfs nog beter!” Asof hy saamstem, kef die poedel langs haar ’n paar keer luidkeels. “Sjuut, Wagter!” sê Suné. “Weet jy, Rudi, ek was so benoud toe my pa die verbande begin afhaal. Ek was bang ek sien nog swakker, of dalk glád nie. Maar my oë is perfek! Alles is so helder! Ek kan selfs my pa se naamplaatjie van hier af lees!” Rudi kyk ook daarna. Op die goue plaatjie staan: DOKTER F. N. STEYN Die dokter glimlag vir Suné. “Ek het jou mos gesê jy is in veilige hande, my kind. Ek sal jou weer die mensie maak wat jy vroeër was. Wees net geduldig.” “Wat sê jy, Rudi?” vra Suné. “Is dit nie fantasties nie?” Hy gaap haar aan. Hy kan sommer sién haar oë is beter. Hulle blink behoorlik.
“Ek . . . is baie bly.” “Kom nou, jy kan beter as dít doen!” “Ek is vrek bly,” glimlag hy van oor tot oor. “Ek kan sien!” skree sy. “Ek kan sien! Ek kan sien!” Haar pa staan haastig nader en sit sy hand op haar skouer. “My kind, asseblief, bedaar.” “Maar Pappa!” “Jou hart. Onthou van jou hart.” Haar gesig val en sy sug. “Ja . . .” Ook Suné se hart het daardie dag toe sy omgery is ernstige skade opgedoen. Rudi weet dis die grootste probleem. Sy was sover gelukkig: haar ore en oë is baie beter. Maar ’n hart is ’n moeilike ding om reg te dokter, selfs vir ’n slim man soos haar pa. “Belowe my jy sal nie té opgewonde raak nie. Wat help dit ons maak jou in sekere opsigte gesond, maar dan . . .” Suné sak terug in haar kussing. “Goed, Pappa. Ek sal probeer.” Die dokter haal sy bril af en vryf dit blink. Dan staan hy deur se kant toe. “Ek los julle twee nou alleen. Ek moet gaan werk. Ek kan seker nie ál my tyd by my gunsteling-pasiënt deurbring nie!” Wagter kef. Toe hulle alleen is, sê Suné: “Weet jy, Rudi, alles is so skerp en nuut. Dis asof dinge nou ánders lyk. Behalwe jy. Jy lyk nes ek jou onthou. Veral as jy lag!” Hy onthou weer die deuntjie se woorde: Daar’s ’n lied en ’n glimlag vir jou . . .
6
“Dit is jou beurt.”
Die volgende oggend voel Rudi glad nie lus vir glimlag nie. Vandag is daar ’n ekstra aaklige bestanddeel by die skooldag gevoeg: mediese toetse. Die feit dat dit Suné se pa is wat al die kinders kom toets, help net mooi niks. Rudi is sy lewe lank al doodbang vir ’n spuitnaald, en sê nou die dokter besluit om hom in te spuit? Die luidspreker kraak vir die soveelste keer die oggend. Die sekretaresse sê: “Meneer Eybers se leerders na die sanglokaal toe vir hulle toetse, asseblief.” Rudi se hart slaan soos ’n hamer in sy bors, maar hy maak grappies met die ander ouens sodat hulle nie moet sien hoe bang hy is nie. Gelukkig weet hy ’n paar van hulle is ook! Hulle gaan na die sanglokaal toe. Dit ruik die ene hospitaal. Die kinders word volgens hulle vanne geroep. Daar is nog net drie van Rudi se klasmaats oor voor hy aan die beurt kom. Dan twee . . . Dan net een. En dan staan die seun langs hom ook op en gaan by die sanglokaal in. Toe hy na ’n paar minute uitkom, steek dokter Steyn sy kop om die deur. “Beukes, Rudi. Dit is jou beurt.” Hy behandel Rudi nes die ander kinders, asof hy hom glad nie ken nie. Eenkant in die vertrek staan die groot klavier met die dokter se swart tassie daarop. Langsaan is ’n groot blou houer wat soos ’n tas lyk. “Sit, jongman.” Die dokter haal sy bril af en vryf dit blink.
Dan gaan die deur oop en die skoolhoof kom binne. “Jammer ek was so lank weg,” sê sy vir dokter Steyn. Die man kyk na Rudi. “My assistent kon nie vandag hier wees nie. Daarom assisteer my vrou my.” Rudi wil vra wat sý dan van doktersgoed af weet, maar sy frons te kwaai en hy bly maar stil. “Trek jou hemp uit,” beveel die dokter. Rudi gehoorsaam. Hy voel baie selfbewus. Hy wens sy borskas was breër. Die skoolhoof is agter hom. “Tyd vir die bloedtoets?” vra sy. Die dokter knik. “Gee vir my ’n skoon naald aan, asseblief.” Sy bril blink in die lig. Hy gooi ’n bietjie pers vloeistof op ’n wattetjie en vee daarmee oor Rudi se voorarm. Dis koud. Hy tik met sy vinger op ’n aar wat dadelik begin uitstaan. Die skoolhoof merk op: “Dis ’n lekker dik aar. Met hom gaan jy nie sukkel nie.” Ou Igora die Angora, met haar lang wit hare . . . Hy is bang hy gaan naar word. Kan hulle nie klaarkry nie! Hy kyk by die venster uit na waar die speelgrond groot en verlate lyk. “Dit sal nie seer wees nie,” sê die dokter. Doen dit tog nou net! Rudi konsentreer op ’n vuil streep teen die venster. Eers toe besef hy die naald is reeds in sy arm. Dis nou wel nie seer nie, maar net die gedagte is genoeg om hom die bewerasie te gee. Hy voel die skoolhoof se asem in sy nek, dan staan sy nader met ’n buisie. Haar man trek die naald uit Rudi se arm. “Dis verby.” Hy dep die bietjie bloed op Rudi se voorarm. “Druk die watte vir my vas.” Die dokter spuit die bloed wat hy opgetrek het in ’n buisie. Hy skryf iets op ’n etiket en plak dit op die buisie vas. “Hoeveel is daar nog na hom?” vra die skoolhoof. “Ek kan jou nie heeldag help
nie, ek het baie om te doen.” Die dokter frons vir haar. “Jy weet hoe belangrik dit is.” Rudi is ongemaklik. Vir ’n oomblik het hulle geklink soos sy pa en ma saans voordat hulle op mekaar begin skree het. “Reg, grootman, nou vir jou hart.” Die dokter druk sy stetoskoop se punte in sy ore en plaas die ronde gedeelte op Rudi se bors. Dis koud! Die dokter lig sy wenkbroue. Hy kyk op na sy vrou. “Iets fout?” vra sy. Rudi hou op met asemhaal. Wat as daar iets groots fout is met sy hart? Maar dokter Steyn glimlag. “Inteendeel, dit klink goed. Báie goed.” Rudi haal weer asem. Die dokter skryf nog iets op die buisie met bloed. Dan maak hy die blou tas oop en sit dit versigtig binne-in. Rudi gril toe hy sien daar lê reeds ’n klomp vol buisies, netjies in afskortings. “Trek aan jou hemp,” beveel mevrou Steyn. “Jy kan gaan.” Rudi maak vinnig. Hy kyk nie terug na die dokter en sy vrou nie. Hulle het buitendien sag begin praat; hy kan nie hoor wat hulle sê nie. Toe hy uitgaan, sê hy vir die ou wat volgende moet ingaan: “Ag wat, dis sommer niks.”
7
Die man tussen die bome
Daardie aand vra sy ma hy moet haar help om kos te maak. Hy skil uie en sy oë traan asof hy die wêreld se slegste nuus gekry het. “Ek is jammer daaroor,” sê sy ma uit die bloute. “Ma?” “Toe ek so lelik met jou was.” Sy steek ’n sigaret aan. Sy blaas die rook uit en Rudi sien haar lipstiffie het ’n bloedrooi blerts op die sigaret se filter gelos. “Dis orraait, Ma.” Sy skud haar kop dat die geel krulle wip. “Nee, dit is nie. ’n Ma behoort nie so op haar kind te skree nie. Dis net ek en jy. Ons moet saamstaan, nie baklei nie.” “Goed so, Ma. Dis cool.” “Ek dag ek sê net. Ek was baie op my senuwees . . . die afgelope ruk. Maar ek voel nou beter. Ek was by ’n dokter.” “Suné se pa?” Dit lyk of sy skrik, dan sê sy: “’n Gewone dokter sou my nie kon help nie. Ek was by ’n psigiater.” Rudi voel hoe sy bors toetrek. “’n Wat? Maar Ma sê Ma voel darem beter?” Sy lag. “Ja, man, moenie so bekommerd lyk nie. Hy het vir my ’n pilletjie voorgeskryf. Iets vir my senuwees. Dit beteken mos nie ek is siek of mal of iets nie!” “Ek weet . . .” Dis waar, noudat hy daaroor dink: sy ma wás die laaste paar maande lelik op haar senuwees. Die egskeiding moes haar meer ontstel het as wat sy wou wys.
En hy was so besig met sy eie dinge – met Suné! – dat hy nie juis aandag aan haar gegee het nie. Nou traan sy oë regtig erg van die uie. Hy knip hulle en draai sy gesig weg. Hy kyk by die venster uit en dis toe dat hy die figuur sien. Agter die huis, tussen die bome. Dit lyk of dit ’n man is. Rudi weet dadelik die man hou hulle dop. ’n Koue gevoel begin agterin sy nek en hardloop die hele ent pad by sy rug af. Hy voel ontbloot hier in die helder kombuis met die gordyne wawyd oop. Dan beweeg die man agteruit en die donker bome vou hom toe. “Eina!” skree Rudi. Hy kyk af. Hy het sy duim raak gesny. Bloed loop by die sny uit. “Wat het jy dan gemaak, jong?” Sy ma pluk hom na die wasbak toe, draai die koue kraan oop en druk sy vinger onder die water. “Eina! Dit maak dit nog erger! Dêmmit!” “Moenie so lelik praat nie. Toe, hou dit so tot dit ophou bloei.” Rudi kyk by die venster uit. Die man is nou nêrens te sien nie. Daar is net donker bome. “Het jy vir iets geskrik?” vra sy ma toe die bloed gestop is. “Geskrik? Nee.” Hy besluit om nie vir haar te sê nie. As sy sukkel met haar senuwees, hoekom haar nog verder op hol jaag? “Laat ek vir jou ’n pleister kry.” Sy loop by die kombuis uit. Buitendien, dit was seker maar net ’n rondloper.
8
’n Ontdekking
Sy ma het skaars haar kamerdeur agter haar toegetrek of Rudi glip by die agterdeur uit. Hy is omtrent benoud, hier waar hy nou amper by die bome is. Maar as hier regtig rondlopers is, wil hy weet. Die bome is dig. ’n Hele gesin kan hier bly! Die luggie is koud en die maan is dof agter die wolke. Die windjie roer die takke en maak kermgeluide soos hy nog nooit gehoor het nie. En nooit weer wil nie. Dit voel nie meer vir hom soos hulle agterplaas nie. Dis alles so oop, hoekom kan hier nie ’n ordentlike heining wees nie! Omdat julle arm is, sê ’n stemmetjie vir hom. Julle kan nie grênd heinings bekostig nie. ’n Takkie kraak onder sy voet en hy verwens homself. Asof die man wat hier was hom nie al lankal sien aankom het nie – nou kon hy hom boonop hóór! Hy kom by die voorste bome. Die man moes ongeveer hiér gestaan het. As dit ’n man was . . . Daar is niemand nie. Rudi kan die grond ruik. Hy sluk. Hou iemand hom dop? Wag die een hom dalk in? Nee, dit was net ’n rondloper. ’n Boemelaar. Skielik is hy seker daar staan iemand agter hom. Hy swaai om.
Daar is niemand nie. Niks. Die huis lyk baie ver. Die kombuisvenster is soos ’n raam. Hy en sy ma het binne daardie raam gestaan terwyl iemand vir hulle kyk. Rudi kyk af grond toe, net toe die maan effentjies agter ’n wolk uitloer. In die bietjie lig sien hy ’n paar sigaretstompies op die grond lê. Het die man gestaan en rook terwyl hy hulle dopgehou het? Of beteken die stompies niks nie? Was dit dalk maar net ’n paar kinders wat die een of ander tyd hier kom rook het? Hoe-hoe, roep ’n uil ’n ent daarvandaan en Rudi se moed begewe hom. Hy het genoeg gehad van hierdie storie. Hy begin terug huis toe hardloop. Toe hy naby genoeg is, loop hy die laaste ent. Banggat! Hy sien die garagedeur is nie behoorlik toe nie. Dit was mos vanmiddag nog gesluit? Hy gaan vat aan die handvatsel. Die deur skuif geruisloos op. Hy het gedink dit sal skree. “Hallo?” sê hy saggies. Sy stem eggo. Hy is vrek bang, maar sê nou hier is iemand wat sy ma se kar wil steel? Dan is hulle dit ook nog kwyt! “Hallo?” Niemand antwoord nie. Rudi voel rond vir die toutjie wat die lig aanskakel. Weer kom die gedagte by hom op dat hy hier afgeëts staan, oop en bloot. Dan vat hy die toutjie raak en trek. Die lig is skerp, maar hy sien dadelik daar is niks in die garage nie, behalwe sy ma se motor.
Heiiiii! Hy fluit saggies. Aan die modderskerm, voor aan die bestuurder se kant, sit daar ’n allemintige duik. Sy ma moet in ’n lamppaal of iets vasgery het. Rudi kan nie help om te glimlag nie. G’n wonder sy ma gebruik nie meer die kar nie. En dat sy so opgewerk raak as hy vra sy moet hom êrens heen vat nie. Sy wil nie hê die dorp se mense moet die duik sien nie – netnou dink hulle dis sý wat die kinders omry! Hy glimlag nog toe hy in die bed klim.
9
Skietpyn
Rudi kuier by Suné toe hulle die voordeur hoor oopgaan. ’n Paar oomblikke later staan mevrou Steyn in die slaapkamer se deur. “Suné, dis tyd vir jou oefeninge.” “Kan dit nie ’n bietjie wag nie, Mamma? Rudi is dan nou hier.” “Van uitstel kom afstel.” Haar ma se mond is op ’n dun strepie getrek. “Dis vir jou eie beswil. Jou pa het gesê jou bene moet elke dag oefening kry.” “Maar . . .” “Moenie teëpraat nie! Jou pa is ’n dokter; hy weet wat die beste is!” Sy trek die beddegoed weg en vat Suné se arm vas. “Rudi, help my. Vat haar onder die ander arm.” Met ’n gesukkel kry hulle die meisie orent. Die hele tyd kef Wagter. Rudi kan sien Suné sal inmekaar sak as hulle haar los. Haar bene is baie swak. “Komaan,” sê die skoolhoof. Suné steek haar regterbeen uit. Haar gesig vertrek van pyn. Rudi wil keer. Ou Igora die Angora! Vir wat is dit nodig dat Suné so moet sukkel? Haar bene sal mos later vanself regkom. “Loop nou!” beveel die skoolhoof. “Eers die linkervoet.” “Eina!” Suné kry darem haar linkervoet uitgesteek. Sy sukkel om haar gewig daarop te sit, maar hulle hou haar regop. Dit voel vir Rudi of hy net so seer soos sy kry. Hy wens hy kon sy vingers soos ’n towenaar klap om Suné weer te laat loop. “Dis vir jou eie beswil,” sê die vrou nog ’n keer.
“Ek weet, maar . . .” “Jou ore is al reg, en jou oë. Nou moet jy nog net weer loop!” “Ja, maar . . .” “Kom, nog ’n tree!” “O!” Suné trek haar asem in. “Eina! Ek . . .” “Komaan, konsentreer! Volgende tree!” Maar Suné beweeg nie. “Mamma, my hart het weer so ’n skietpyn gegee!” Haar ma raak bleek. “Gou, Rudi, help my dat ons haar terug in die bed kry!” Toe Suné lê, vra die vrou: “Hoe voel jy nou, my kind?” Suné sluk. “Beter.” “Is jy seker?” “Ja, dit voel nou weer reg.” “Ek het gemaak dat jy jou ooreis. Ek is jammer ek is so ongeduldig. Ek en jou pa wil net hê jy moet regkom, my kind.” “Dis oukei, Mamma.” Wagter spring op die bed om by Suné te wees. “Kom, Rudi,” sê die skoolhoof. “Ons los haar nou sodat sy kan rus.” “Nee, Mamma. Kan Rudi nog ’n bietjie bly?” Die vrou lyk op die punt om nee te sê, maar antwoord dan: “Goed. Maar net ’n rukkie.” By die deur kyk sy terug. “Is jy seker jy voel beter?” “Ja, Mamma.” Toe die skoolhoof geloop het, vra Rudi: “Is jy séker?”
“Ag, moenie jy ook nou begin nie!” fluister Suné. “Ek is maar net bekommerd.” Sy fluister nog sagter: “Ek het nie regtig sleg gevoel nie. Ek het net so gemaak. Anders sal hulle my laat oefen tot ek dood neerslaan. Dis net oefeninge, oefeninge! Hulle het ’n obsessie om my so gou moontlik reg te kry.” Wagter het opgehou om homself te lek. Hy kyk op asof hy verras is. Sy tong steek uit. Ook Rudi se mond hang oop. “So jou hart is eintlik orraait?” “Nee, daar ís groot fout met my hart, maar dis al manier hoe ek hulle partykeer sover kry om my ’n bietjie uit te los. Ek maak of ek ’n skietpyn kry.” Rudi lag. “Jy’s nog net soos altyd.” “Nie heeltemal nie.” Sy frons. “Maar ek’s al beter.”
10
Die amper-ongeluk
“Ma!” Rudi storm die kombuis binne. “Ek het verslaap!” Sy ma lag. “Nee, man, dis Saterdag, jy hoef nie skool toe te gaan nie.” “Maar ons speel ’n rugbywedstryd!” Haar oë rek en sy druk haar sigaret in die opwasbak dood. “Ek het nie geweet nie. Gaan jy in die moeilikheid wees as jy dit mis?” “Ek kán dit nie mis nie. Ek kan nie die ouens drop nie!” “Maar as jy verslaap het, het jy verslaap.” “Daar is nog amper tien minute oor voor die wedstryd begin! Ons kan nog betyds wees. Ek sal dit nie maak as ek loop nie, maar as Ma my met die kar vat . . .” Sy raak bleek. “Ek kan nie.” Die ouens gaan hom nooit hiervoor vergewe nie, en nou staan sy ma en worry omdat daar ’n duik in haar kar is! “Toe, Ma, help my uit! Wees nou ’n regte ma!” Hy het dit skaars gesê of hy voel verskriklik sleg daaroor. Sy kyk na hom. Dit lyk of sy wil huil. Dan staan sy op en sê: “Goed. Gaan trek jou aan, dan ry ons. Maak gou.” Rudi hardloop om sy rugbyklere en toks te kry. Toe hy die voordeur agter hom toetrek, staan die motor al in die pad en dreun. In die helder oggendlig sien hy die duik is nog groter en dieper as wat hy gedink het. Sy ma sê nie ’n woord nie. Sy bestuur so versigtig dat dit voel asof hulle kruip. Rudi raak skoon naar.
“Ma, kan Ma nie ’n biétjie vinniger nie?” “Bly stil! Ek doen jou ’n guns! Wil jy hê ons moet ’n ongeluk maak?!” Hy sug. Dis nog steeds beter as om te loop. Selfs as hy gehardloop het, sou hy laat gewees het – en uitgeput nog voor die wedstryd begin. Eindelik is die skool in sig. En daar, voor die oop hek, roep Rudi se ma hard: “Dêmmit!” Sy trap rem. Die bande skree op die teer. Die ander motor het asof van nêrens gekom – dis dokter Steyn s’n. Hy stop net ’n paar sentimeter van hulle af. Die dokter ruk agter sy stuurwiel. Dit was so amper! Rudi sien hoe sy ma rooi in die gesig raak. Dit lyk amper of sy ’n aanval gaan kry. Dis nie net van skrik dat sy so lyk nie, hy is seker daarvan. En in die ander motor raak dokter Steyn se gesig nét so rooi. Die twee grootmense staar na mekaar. In die verte sien Rudi hoe sy span op die veld begin draf. “Ek moet waai, Ma. Dankie!” Hy spring uit die motor, wuif effens vir dokter Steyn en hardloop. Agter hom hoor hy hoe die twee motors aangeskakel word.
Dis darem nie ’n té slegte wedstryd nie; hy druk selfs ’n drie. Hy voel weer soos een van die ouens. In die eerste helfte kry hy dit reg om van al die ander dinge te vergeet. Maar rustyd sien hy dokter Steyn langs die veld. Sy bril blink in die son. Hy het sy swart tassie by hom. Hy is Saterdae daar vir noodhulp, ook noudat Suné nie meer netbalwedstryde kan speel nie. Hoekom het sy ma en die dokter albei so vreemd gereageer? Toe skiet dit Rudi met ’n skok te binne. Nee, dit kan tog nie wees nie! Hy is van
sy trollie af om dit te dink. Maar . . . Die fluitjie blaas en die tweede helfte van die wedstryd begin. Rudi speel nou nie meer so goed nie. Hy weet nou hoekom sy ma en dokter Steyn so snaaks gelyk het toe hulle mekaar onverwags sien. Hulle het ’n skelm verhouding!
11
Agtervolger
Daardie aand besluit hy daar is net een mens met wie hy die saak kan bespreek. Die ouens in sy klas sal alles uitlap. Hy moet gaan praat met die een vir wie dié ding ook raak. Maar hy sal aan Suné se venster moet gaan klop en ongemerk by haar kamer inkom. As dokter Steyn hom sien, raai hy dalk dat Rudi twee en twee bymekaar gesit het. Toe sy ma met ’n tydskrif in haar hand kamer toe gaan, maak Rudi sy kamerdeur versigtig toe en klim saggies deur die venster. Die nagluggie is ysig. En dis regtig donker. Maar hy gaan nie bang wees nie. Hy onthou die man wat hy tussen die bome sien staan het. Sover Rudi weet, was hy nooit weer daar nie. Hy glip om die huis en begin in die straat af loop. Dit voel skielik ver na Suné-hulle se huis toe. Hy het nog nooit in die aand soontoe gegaan nie en dis asof die bome hom dophou. Hy trek sy baadjie stywer om sy lyf. Verbeel hy hom of is dit meteens kouer? Vir ’n Saterdagaand is dit baie stil. Dis te koud om buite te wees. Agter sommige sitkamervensters sien hy mense voor televisiestelle sit. Hy het drie blokke geloop toe hy bewus word van die motor. Hy hoor dit al ’n rukkie iewers agter hom, maar het hom nie regtig daaraan gesteur nie. Nou staan die haartjies in sy nek orent. Die motor moes hom reeds verbygesteek het, maar dit bly op ’n afstand. Dit beteken net een ding – hy word agtervolg.
Rudi begin vinniger loop. En sy hart begin erg te klop. Hy kyk om. Daar is dit nog altyd. Die kopligte is so helder dat hy nie kan uitmaak watter soort motor dit is nie. Nou raak hy regtig op sy senuwees. Hy begin nóg vinniger loop. En die bestuurder ry ook ’n bietjie vinniger. Die motor bly presies dieselfde afstand agter hom. Bly kalm! Dan kry Rudi ’n plan. ’n Entjie verder is daar ’n veldjie met baie bosse, waar hy sal kan wegkruip. Hy het nog skaars die gedagte kry, of hy begin hardloop. Vinniger! Sy asemhaling raak so hard, hy kan nie meer hoor waar die motor is nie. Hy kyk om. Dit is nou baie nader. Die bestuurder ry vinniger. Hy gaan omgery word! Maar dan is hy by die veldjie. Hy hardloop, trap in ’n gat en slaan amper neer, maar kom dadelik weer op sy voete. Uiteindelik is hy by die bosse. Hy kry haastig vir hom wegkruipplek en loer tussen die takke deur. Daar is die motor. Dit het tot stilstand gekom. Rudi weet die bestuurder fynkam nou dié gebied. Asseblief, laat hy tog goed weggesteek wees hierso! Die motor begin weer stadig beweeg. Dit verdwyn om die hoek. Rudi gaan hom nie so maklik laat uitvang nie. Wat as dit terugkom? En toe, na ’n minuut of wat, kóm dit terug. Die motor ry stadig verby en Rudi weet die bestuurder kyk goed of hy hom kan gewaar . . .
Na wat soos eeue voel, verdwyn dit weer om die hoek. Rudi wag. Dit kom nie weer nie. Stadig blaas hy asem uit. Nou’t hy genoeg gehad en hy besluit om nie na Suné toe te gaan nie. Hy hardloop terug huis toe. Dis jammer hy kon nie sien watter soort motor dit is nie. Van een ding is hy egter baie seker: dit moet een of twee slegte duike hê.
12
Die briefie
Rudi kry ’n gevoel van naarheid toe meneer Verster die vraestelle uitdeel en sê: “Hou dit onderstebo op julle banke. Julle kan dit omdraai wanneer ek so sê. Dan het julle tien minute.” Dis nog ’n toets wat hy wat Rudi is definitief gaan pluk. Van al sy slegte punte is biologie s’n die vrotste. Hy hoop dis keusevrae, of waar en onwaar, maar meneer Verster maak dit nooit so maklik nie. Hy staar na die vel papier voor hom. Hoekom het hy nie maar gisteraand geleer nie? Maar daar is soveel dinge wat sy kop besig hou! “Draai om en begin,” beveel meneer Verster. Die klok lui. Een, twee, drie, vier keer. Meneer Verster sug hard. “Klas, julle weet wat dit beteken.” “Branddril!” roep een van die meisies uit. Rudi se hart sing. Hy is mal oor branddril. Dit word een keer elke kwartaal gehou om seker te maak die leerders weet wat om te doen as daar ’n brand in die skool uitbreek. Vandag het die hoof ’n fantastiese periode daarvoor gekies! Almal peul by die gang in. Dis ’n gesukkel om die proses ordelik te laat verloop. “Bly in julle rye!” roep ’n onderwyseres, maar dit help net vir ’n paar sekondes. Elke klas gebruik die naaste uitgang en kry koers rugbyveld toe. Die veld loop vol van die skool se helder blou baadjies. Die leerders wil die branddril nooit té vinnig verby kry nie, want dan moet hulle terug na hulle skoolbanke toe gaan. Veral Rudi se klas vat vandag hulle tyd, want hy is nie al een wat nie lus was vir die biologietoets nie. Einde ten laaste staan almal in hulle groepe.
Nou word die klaslyste afgemerk. Dan maak die hoof haar opwagting. Sy het ’n megafoon by haar en klink uiters ontevrede. “Julle het vandag ’n volle veertig sekondes langer gevat om in julle groepe te kom. Dis ’n skande!” Sy sê hulle omtrent sleg. Toe hulle na hulle klasse toe loop, is almal stil. Nou is dit terug na die harde werklikheid. Of is dit? Net toe Rudi in sy bank neersak, gereed om tog maar die ou toets te skryf en te dop, lui die klok. Einde van die periode! Meneer Verster sug nog swaarder as netnou. “Reg, klas, julle spring vandag vry. Gee terug die vraestelle, onderstebo. Julle skryf dit môre.” Die leerders pak in. Tóé sien Rudi die opgevoude papier wat bo-in sy rugsak lê. Hy vou dit oop: Liewe Rudi Kry my vanaand 9-uur by die pretpark. Moenie my bel nie, kom net. Moet vir niemand sê nie. Liefde, Suné Hy staar lank na die briefie. Suné se handskrif lyk anders as gewoonlik. Dalk omdat sy op haar rug moes lê en skryf. Hy trek sy skouers op. Hoe het die briefie hier gekom? Hy frons, maar dan glimlag hy. Natuurlik! Suné moes dit in sy rugsak kom sit het terwyl hulle almal weg was vir die branddril. Dit was definitief nie aan die begin van die periode daar nie. Maar nee, Suné kan mos nog nie loop nie. Sy moes iemand gevra het om dit te kom aflewer. Hoe het daai iemand geweet in watter klas Rudi sou wees, en watter rugsak syne is?
En hoekom kan hy Suné nie bel nie? Sy ma wou nog nooit vir hom ’n selfoon koop nie; het gesê daar is nie genoeg geld “vir luukses” nie. So hy sou anyway nie nou kon gebel het nie, tensy hy die skool se telefoonhokkie gebruik het – maar hy sou darem vir Suné kon ge-SMS het. Het sy iets om vir hom te sê wat haar ouers nie mag hoor nie? En hoekom by die pretpark? Dis so ver, reg op die rand van die dorp. Is dit sodat hulle makliker kan gesels tussen al die mense? En hoe gaan Suné daar kom? Gaan iemand haar neem? “Beukes!” roep ’n stem. “Pak in! Tyd vir jou volgende klas!” Meneer Verster lyk soos ’n tier wie se prooi voor hom weggeraap is. Rudi gespe sy rugsak toe. Daar is soveel vrae in sy kop dat hy besluit om vir eers nie verder te dink nie. Hy raak tog net nog meer deurmekaar.
13
“Ek wil met jou praat.”
Dit is terwyl hy huis toe loop dat hy weer van die motor bewus raak. Agter hom. Hy is ’n oop teiken. Rudi wens so hard as wat hy kan dat dit nie meer daar gaan wees as hy omkyk nie . . . en hy kyk om. En die motor is steeds daar. Dit móét dieselfde een wees wat hom nou die aand gevolg het. Dit is naby genoeg aan hom dat hy kan sien daar is nêrens duike in die motor nie. Dit lyk goed opgepas. Die son val só op die voorruit dat hy nie die bestuurder kan sien nie. Hy kyk rond. Daar is niemand in sig nie. Ook geen ander motors nie. As hy nou omgery word, sal daar nie ooggetuies wees nie. Hoe moet ’n mens versigtig wees soos die waarskuwings by die skool sê, as hier nêrens ’n behoorlike sypaadjie of wegkruipplek is nie? Dan hoor hy hoe die motor versnel. Die enjin maak ’n gromgeluid, soos ’n ongedierte wat hom wil bespring. Rudi dink nie twee keer nie. Hy laat vat. Hy hardloop vir al wat hy werd is. Sy rugsak bons agter hom. Hy hoor die geluid nader kom. Net toe hy dink hy word nóú omgery, kom hy agter die motor is langs hom. En hy besef die bestuurder wou hom nie omry nie. Want dis sy pa. “Rudi, wag!” skree hy deur die oop asiersvenster.
Rudi gaan staan, natgesweet van die inspanning. Stadigaan begin sy hartklop bedaar. Nou is hy lelik vies omdat hy so geskrik het. Woedend! “Wat wil Pa hê?” “Ek wil met jou praat.” Sy pa leun oor en maak die deur oop. “Klim in.” Rudi sien sy pa se hande bewe liggies op die stuurwiel. Hy sukkel om die motor weer aan die gang te kry. “Waaroor wil Pa praat?” “Ek mis julle.” Sy pa kyk reg voor hom op die pad. Lekker so, dink Rudi. Daar was ’n tyd toe hy sy pa ook gemis het, maar nie meer nie. En sy pa het sy ma vrek seergemaak. Dan val iets hom by. “Was dit Pa wat ons nou die aand dopgehou het?” Sy pa kyk vinnig na hom. “Ja. Ek het gesien jy gewaar my, toe het ek dit nie weer gedoen nie. Ek het daardie aand baie na julle verlang, nog meer as gewoonlik. Ek wou net sien wat julle doen en . . .” “En dis Pa wat die ander aand agter my aangery het. In dié kar.” “Ek wou toe al met jou praat.” “Daar’s niks om oor te praat nie.” Rudi raak nog meer opgewerk. “Ons is amper by die huis, dan kan Pa my aflaai.” Sarkasties voeg hy by: “Dankie vir die lift.” “Rudi, wag eers. Ek is nog jou pa, onthou.” “Pa het nie soos ’n pa gemaak toe Pa ons net so gedrop het nie. Wat is dit dan nou? Het daai meisiekind moeg geraak vir Pa?” Aan sy pa se gesig sien hy sy raaiskoot was raak. Hy sê: “Sy was nie . . . wat ek gedink het nie.” “So nou is dit háár skuld. En nou is ek en Ma weer goed genoeg!”
“Julle kan nie so op julle eie regkom nie.” “Ons sal baie goed regkom as Pa net ’n slag onderhoud wil betaal. Ma werk nou by prokureurs. Hulle gaan vir Pa opfix as Pa nie betaal nie.” Sy pa hou oorkant die huis stil. “Ek wil hê jy moet met jou ma praat. Kyk of sy . . . nog iets vir my voel. Dan laat weet jy my. Jy het mos my nommer? Julle besef dit dalk nie, seun, maar julle het my nodig.” “Gmf! Ék het nie! Al wat ek onthou van toe Pa by ons in die huis was, is die een fight na die ander!” “Dink aan jou ma. Sy het ’n man in haar lewe nodig. Sy is nie die soort vrou wat vir haarself kan sorg nie.” “Dan sal ék vir haar sorg!” Rudi klim uit die motor en slaan die deur so hard toe dat die geluid in die straat af eggo. Toe hy by die voordeur kom, hoor hy die motor wegtrek. Hy kyk nie om nie.
14
Amper sulke tyd
Daardie aand hou Rudi sy ma fyn dop in die kombuis terwyl sy wors en eiers braai. Is dit regtig waar dat sy nie sonder ’n man kan klaarkom nie, of is dit maar wat sy pa graag wil glo? Sy lyk nie altyd gelukkig nie, maar sy het mos gesê haar senuwees pla. Iets pla hóm. Hy moes nooit vir sy pa gesê het hy sal vir sy ma sorg nie. Nou voel hy dis sy plig. En hy kan tog nie! Hoe begin jy om vir iemand te sorg? Hulle eet. Die kos is olierig. Die vraag sit ’n paar minute in sy keel vas voor hy daarmee uitkom: “Dink Ma baie aan Pa?” Sy lyk verras en vat lank voor sy antwoord. “Nee. Hy was nie die regte man vir my nie. Hoekom? Dink jý baie aan hom?” “Nee. Hy was nie die regte pa vir my nie.” Rudi is verlig. Dit sou vreeslik gewees het as hy sy pa weggejaag het en sy ma verlang nog na hom. Sy ma vra: “En ek?” “Hoe bedoel Ma?” Sy kyk af na haar bord kos. “Is ek darem die regte ma vir jou?” “Ja!” Nou voel hy ongemaklik. “Ja, Ma. Rêrig.” “Ek kan nie vir jou die duur goed gee wat jou maats het nie. Ek weet jy wil ook mooi nuwe klere hê . . . ’n Selfoon . . .” “Ek wil g’n ander ma hê nie.”
Weer dink hy dat sy pa mal was om sy ma vir ’n jong meisie te los. Rudi het haar net een keer gesien. Sy was netjies aangetrek, met sulke kort vaal hare en nie eens lipstiffie nie. Boring! “Dankie,” sê sy ma. Haar parfuum ruik soet. Sy sit mos lekker baie daarvan aan. “En dis cool dat Ma nie die wêreld se beste bestuurder is nie!” Hy sien hoe sy skrik, en voeg by: “Ek het die stamp gesien. Dis darem ’n moewiese boom wat voor Ma ingespring het!” Sy kyk weg. “Ek het nie in iets vasgery nie.” “Maar . . .” “Ek was by die winkels. Iemand het in my kar vasgery terwyl ek binne was. Die duik was daar toe ek uitkom.” Sy klink vies en haar wange is rooi. Sy gaan sit haar bord in die opwasbak, loop na haar kamer en maak die deur toe. Rudi kyk na die plafon. Vir wat moes hy die atmosfeer staan en bederf? Hy moes niks van die kar gesê het nie. Maar nou hoef hy darem nie bekommerd te wees dat sy ma te laat sal gaan slaap nie – hy sal maklik kan uitglip. Amper sulke tyd! As hy vinnig opwas, kan hy al ’n bietjie vóór nege-uur by die pretpark wees. Hy wonder weer hoe Suné daar gaan kom. Daai briefie was darem baie vreemd. Toe maar. Dis nie meer lank nie, dan weet hy hoe dinge inmekaarsteek.
15
Paniek in die pretpark
Tien voor nege kyk hy op sy horlosie. Nog net ’n blok van die pretpark af. Hy het homself twee keer gevang dat hy omkyk of daar ’n motor is wat hom volg. Hy moes vir homself lag – hy weet mos nou dit was maar net sy pa! Die pretpark behoort aan ou ryk mevrou Weyers. Sy weet nie wat om met al haar geld te maak nie, toe laat sy dié plek op die rand van die dorp bou. Eers was dit ’n geweldige sukses. Jy was heeltemal uit as jy nie daar rondgehang het nie. Maar dit het gou ou nuus geraak. Veral noudat dit kouer is, is daar soms net vier of vyf mense by die tolmasjien of spieëlsaal te sien. Toe Rudi om die laaste hoek kom, merk hy met ’n skok op dat die pretpark pikdonker is. Hy het verwag om liggies te sien en vrolike musiek te hoor, maar die geboue en stalletjies smelt met die aanddonkerte saam. Hy gaan nader. O ja, hy het vergeet die pretpark is Maandagaande toe. Hy loop tot by die hek. Dis nie gesluit nie. Hy frons. Die hek is mos gewoonlik gesluit wanneer die plek toe is? Moet hy hier wag? Suné se briefie het gesê sy kry hom hier, maar nie of dit binne of buite moet wees nie. Aangesien hy ’n paar minute vroeg is, besluit hy om ’n bietjie rond te kyk. Dis spokerig. Alles staan stil en verlate. By die mallemeule herken hy die vorms van die perdjies. Hulle oë is tamaai groot, asof hulle iets gesien het wat hulle laat skrik het. “Hallo?” roep Rudi. “Suné?” Daar is geen antwoord nie. Sy stem raak weg in die oopte. Jislaaik, maar dis koud hier! Hy vou sy arms om sy lyf en wens hy het ’n trui aangetrek. Of dat hy nou by die huis was, onder ’n warm duvet.
Maar dan sou hy nie vir Suné kon sien nie. Dit sal die eerste keer in ’n lang ruk wees dat hulle kan praat sonder dat daar enige tyd iemand kan opdaag. Dít moet wees hoekom sy die pretpark gekies het op ’n aand wat dit gesluit is. Sy moet iets belangriks hê om vir hom te sê. Hy kyk terug hek toe. Dis nege-uur en daar is steeds niemand nie. Stil. Spookagtig. Hy loop ’n ent verder in die pretpark in. Hy gaan staan by die masjien waar hy vir Suné roomys gekoop het toe hulle die laaste keer hier was. Dit voel so vrek lank gelede! Sy sal weer kan loop nes altyd, daarvan is hy seker. Maar kan ’n hart ooit weer heeltemal regkom? Skielik is daar ’n geluid – ’n slag. Asof iemand teen ’n sinkmuur gestamp het. Al die haartjies in Rudi se nek staan regop. “Suné? Is dit jy?” Hy gee ’n tree in die rigting vanwaar die geluid gekom het, maar dan vries hy in sy spore. As dit Suné was, sou sy geantwoord het. Hy raak al hoe sekerder sy is nie hier nie. So dit beteken . . . sy het nie die briefie geskryf nie. Iemand het dit in sy rugsak gesit om hom hier te kry. Alleen. Sy asem raak weg. Dis ’n lokval! “Suné?” Sy stem klink klein en bang. “Kom uit!” Hy besluit om tot drie te tel. As daar dán nog nie antwoord is nie, gaan hy vet gee terug hek toe, en uit en weg. Een.
Die park is stil. Twee. Baie stil. Drie. Toe Rudi omdraai, gewaar hy dit: ’n donker figuur by die pretpark se hek. Hy kan nie uitmaak of dit ’n man of ’n vrou is nie. Maar die een kom reguit na hom toe aan. Dis definitief nie Suné nie. Hy wil beweeg, maar dit voel asof sy bene nie aan hom behoort nie. Moenie te gou bang word nie, sê hy vir homself. Dalk is dit net . . . “Pa?” Die persoon antwoord nie, kom net doelgerig nader. Dus is dit nie sy pa nie. Dan, eindelik, het Rudi weer krag in sy bene. Hy tol om en hardloop in die rigting van twee groot tente. Hy verwag om hande op sy rug te voel. Hy wil nie omkyk nie – hoe ver is sy agtervolger? Hy hardloop tussen die tente deur. Amper in ’n metaalafskorting vas. Voor hy behoorlik kan dink, spring hy bo-oor. Hy is op ’n groot ovaal sementblok. ’n Ent van hom af is ’n paar vreemde, ronde vorms. Hy besef dis die stampkarretjies se baan. Daar is ’n harde klikgeluid. En ’n gezoem. Die geluid van elektrisiteit.
Een van die karretjies spring van die ander af weg. Dit pyl op hom af! Rudi skree. En spring! Die karretjie skiet bo-oor die plek waar hy gestaan het, in die metaalafskorting vas. Hy verloor sy balans en slaan neer. Rol eenkant toe. Hy sien die persoon in die stampkarretjie het agteruit beweeg en is besig om om te draai sodat hy weer op Rudi kan afpyl. Rudi se asem jaag. Hy hardloop oor die baan. Moet by die ander punt uitkom! Hy kan sien die hekkie is oop. Hy hoor die karretjie nader kom. Dis suiwer instink wat hom na links laat spring. Net betyds. Die karretjie skiet verby. Toe sien Rudi die ding wat die karretjie bestuur. Dit het nie ’n gesig nie. Daar is net twee groot oë wat blink in die donker. Die kop is rond en swart en sonder hare. Die ding maak ’n woedende geluid. Die skok gee Rudi krag. Hy hardloop, en dan is hy by die hekkie uit. Die karretjie sal nie hier kan deurkom nie. Hy nael na die eerste die beste plek. ’n Geboutjie. Eers toe hy by die deur kom, besef hy dit sal gesluit wees. Hy draai om en sien die ding uit die karretjie spring en na hom toe aankom. Rudi ruk aan die deur. Dis gesluit. Hy staan terug. Daar is nie tyd vir dink oor wat reg en wat verkeerd is nie. Hy storm op die deur af en hoop hy is sterk genoeg.
’n Lam gevoel trek deur sy skouer toe hy die deur tref. Dit kraak en gee mee. Dan, skielik, sluit ’n hand oor sy gewrig. Daar is nog een van hulle! Rudi skree en gee ’n ruk. Hy’s los! Hy het die deur oopgekry en is binne-in die geboutjie. Hy smyt die deur agter hom toe. Maar dit sluit nie; hy het die slot beskadig. “Oef!” maak die ding wat by die deur is. Daar is beslis twee van hulle, besef Rudi terwyl hy desperaat in die donkerte na wegkruipplek soek. Hy vat iets kouds en glads raak. So dis waar hy is: die spieëlsaal. Hy onthou hoe hy en Suné hier gelag het vir die manier waarop die spieëls hulle lywe verwring en vir hulle lang, misvormde gesigte gegee het. Hy vind ’n opening tussen twee lang spieëls en glip daarin. Meteens is daar ’n skerp lig wat deur die saal swaai. Een van sy twee agtervolgers het ’n flits. Rudi sien hoe die geel baan ’n pad deur die saal verlig. Dit weerkaats in die spieëls sodat daar twee, vier, ag ligte is. Hy weet nie meer waar hulle is nie! Maar dit beteken hulle weet ook nie waar hý is nie. Hy moet net stil hier bly sit – dalk kry hulle hom nie. Dalk dink hulle hy het by ’n agterdeur uitgeglip. Rudi sit so stil as wat hy kan. Hy hoor skuifelbewegings.
Fluisterstemme wat klink soos die wind deur droë takke. Daar is nou twee flitse. Of so dink hy. Dit kan die spieëls wees . . . Toe sien hy die weerkaatsing in die spieël. Een van die twee se lig het op die ander een se gesig geval. Rudi wil skree, want dit bevestig vir hom wat hy so vinnig op die stampkarretjiebaan gesien het. Die ding hét nie ’n gesig nie. Net groot, gloeiende oë. Dis ’n duiwel! In die spieëls lyk dit nou vir hom of daar honderde van die duiwels is, oral om hom. Dan kan hy dit nie meer keer nie. Hy skree. Hy moet hier uit! Hy spring op, reg in een van hulle vas. Maar hierdie een val – teen die ander een. Die geluk is aan Rudi se kant. Hy is verby hulle; hy is by die oop deur. Hy is buite. “Help! Help!” skree hy terwyl hy in die hek se rigting hardloop. Dis nog so ver huis toe, hulle sal hom maklik inhaal! Hy kyk om sodat hy kan sien of hulle aankom . . . . . . en dan word sy arm vasgegryp. Alles raak swart voor hom.
16
Op soek na twee duiwels
“Vertel my nou wat regtig gebeur het!” Rudi knip sy oë. Hy kan nie glo hy is nie dood nie. Hy sit voor in ’n polisiemotor en die man langs hom is sersant Kotze. “Jy het jou as af geskrik toe ek aan jou vat,” sê die polisieman. “Wat gaan hier aan?” Rudi vertel die hele storie. Hy is so verlig om veilig te wees dat die woorde sommer uit hom borrel. “Maar dan’s jy mos blerrie stupid,” sê sersant Kotze toe Rudi by die deel kom waar hy Suné se briefie in sy rugsak gekry het. “Jy moes geweet het dis nie sy wat dit daar gesit het nie.” “Ja, maar ek het gedink . . .” “Nee, jy het nié gedink nie!” Sersant Kotze steek ’n sigaret aan. Dis al die derde een. Dis die eerste keer dat Rudi iemand vinniger en meer as sy ma sien rook. Die man herhaal: “Vertel my nou wat regtig gebeur het!” “Ek hét dan nou net!” Rudi kyk na die pretpark se oop hek. Wat as daar ’n ding na die motor toe aangestorm kom? “Jy kan jou sterre dank ek was op patrollie.” Sersant Kotze rook en rook. “Ek’t toevallig hier verbygekom. Jou hart sou ingegee het as dit langer so aangegaan het.” Hy druk sy sigaret dood. “Kom ons gaan kyk hoe lyk dit daar binne.” “Nee!” “Komaan.” Die man klim uit.
Rudi besluit om hom maar te volg. Dit behoort mos orraait te wees met ’n polisieman by hom. Een ding is seker: hy gaan nie alleen in die motor bly sit nie! Hulle loop deur die hek. Die gruis knars onder hulle voete. “Ek sê vir sersant, dit wás twee duiwels.” Rudi se stem bewe. “Ja, ja. En ek sê vir jou, dit was twee van jou pelle. Jy kon hulle gesigte nie goed sien nie, toe sorg jou verbeelding vir die res.” Rudi swaai om – hy dag hy hoor iets agter hulle. Daar is niks nie. Dan skuif ’n wolk voor die maan in. “Komaan, jy raak agter,” sê sersant Kotze. Sê nou die twee duiwels val die polisieman aan en maak hom dood? Dan sal hy wat Rudi is die skuld daarvoor kry! Maar daar gebeur niks nie. Dalk het die man se teenwoordigheid hulle laat padgee. “Jy’s seker daar was twee van hulle?” vra sersant Kotze. “Ja.” “En hulle het g’n gesigte gehad nie? Net groot, gloeiende oë?” “Ek het net die een duidelik gesien . . .” Hulle kom by die spieëlsaal se stukkende deur. Die sersant klik met sy tong. “Is dit jou werk?” “Nee, dit wás so.” “Ek wonder of ek jou moet glo.” Die man druk die deur oop. “Kom.” “Moenie ingaan nie! Hulle is dalk nog daar binne!”
Sersant Kotze het reeds ingegaan en sy flits aangeskakel. Rudi loop noodgedwonge agter hom aan, voor hy uit sy sig kan verdwyn. Sy hart klop veels te vinnig. ’n Spinnerak streel oor sy gesig en hy skrik so groot daarvoor dat hy byna gil. Die spieëls laat Rudi en die man soos ’n peloton koddige soldaatjies lyk. Na ’n minuut of wat sê sersant Kotze: “Hier’s niemand nie. Kom.” Toe hulle by die motor is, vra Rudi: “Sal sersant my huis toe vat, asseblief?” “Natuurlik.” Die man lag. “Ons kan jou seker nie vir die wolwe los nie. Netnou wag jou maats op ’n ander plek om jou ’n klein hartaanval te gee.” Rudi probeer glimlag. Dalk wás dit van sy klasmaats.
17
Smoorkwaad
Pouses is daar altyd ’n leerder of twee wat wil oproepe maak – dié wat nie selfone het nie. En daar is net een openbare telefoon. Toe Rudi daar kom, staan daar reeds vier voor hom en wag. So baie? Daar is nooit so baie nie, hoekom vandag? En hoekom is hulle tog so arm dat hy nie maar ’n selfoon kan hê nie? ’n Meisie met ’n lang poniestert staan en klets en klets. Rudi is later lus en kry haar aan die hare beet. Na haar kom daar iemand anders aan die beurt. En hy ís so haastig! Hy kyk op sy horlosie. Nog net twee minute, dan is pouse verby. Later is die laaste ou voor hom darem al aan die praat. Daar is niemand ágter Rudi nie. Die ou praat. En praat. Hy vertel vir sy ma van ’n boek wat hy by die huis vergeet het – kan sy dit bring, dan kry hy haar tweede pouse by die hek? Daarna vertel hy haar eers watter periodes hy reeds gehad het, en wat in elkeen gebeur het. Toe hy klaarmaak, bespring Rudi omtrent die telefoon. Hy trek sy kaartjie deur die gleuf en skakel die nommer. Hy wag. Hoor hoe die foon aan die ander kant lui. Hoekom vat Suné so lank? Die telefoon is dan reg langs haar bed. Uiteindelik tel sy op: “Hallo?” “Dis ek!”
Dan lui die klok. Pouse is verby. Die kinders moet na hulle rye toe gaan. “Haai Rudi,” sê Suné. “Jammer ek vat so lank om op te tel, maar ek het geslaap. My pa het vir my nuwe pille gegee en . . .” “Ek kan nie lank praat nie, pouse is om. Luister gou. Jy het nie vir my ’n briefie skool toe gestuur nie, nè?” “’n Briefie? Skool toe? Nee, hoekom sou ek?” “Ek het so gedink. Suné, hier’s iets snaaks aan die gang. Ek is gisteraand na die pretpark toe en . . .” “Hoekom? Is dit nie Maandagaande toe nie?” “Dit is. Maar ek het vergeet. In elk geval . . .” Rudi kry niks meer gesê nie, want ’n hand kom van agter en druk die telefoon se mikkie af. Die lyn is dood. Hy swaai om. Dis mevrou Steyn, en sy lyk smoorkwaad. “Het jy nie gehoor pouse is verby nie?” Rudi sien die kinders loop al in. Sy frons nog dieper. “Die klok het twéé keer gelui.” “Ek’s jammer, Mevrou, ek . . .” Nou sal dit nóg ’n ruk vat voor hy met Suné kan praat. Sy’s slim; sy sal weet wat hy moet doen. Die hoof sê: “Ek weet nie wat met jou aangaan nie. ’n Hele paar onderwysers kla oor jou houding. Om van jou skoolwerk nie eens te praat nie.” “Maar Mevrou . . .” “G’n teëpratery nie!” Haar oë blits. “Mevrou, ek was besig om met Suné te praat.”
“Dit verander niks aan die saak nie! Jy sit vanmiddag detensie wanneer die ander leerders huis toe gaan. Verstaan ons mekaar?” “Ja, Mevrou.” Hy loop weg. Hy kan haar oë op sy rug voel, maar hy kyk nie om nie.
18
Asof oë hom volg
Tweede pouse dwaal Rudi alleen op die skoolgrond rond. Waar hy ook al gaan, is dit asof oë hom volg. Duiwelse oë. Hy voel yskoud, al is dit warm. Oral rondom hom gesels en lag leerders, maar hy voel heeltemal alleen. Die haartjies in sy nek staan orent. Hy is seker hy word dopgehou! Hy kyk na die skoolgebou. Die son weerkaats op die vensters en hy kan nie sien of daar iemand agter een van hulle staan nie. Hy draai weg en kyk na die bome anderkant die heining. Ook dáár kan dalk iemand wees. Die goed wat in die pretpark was, kon tog nie hierheen gekom het nie. Nie helder oordag nie. Hy is bly toe die klok lui en hy rye toe moet gaan. Nog net twee periodes, dan is dit huistoegaantyd. Daar sal hy veiliger voel. Maar dan val dit hom by dat hy na skool moet bly. Dis net nie sy week dié nie.
19
“Moenie dat hy wegkom nie!”
Detensie is die wreedste straf wat daar kan wees. Al is dit teen die wet, sou Rudi verkies het dat ’n onderwyser hom ’n paar houe met ’n rottang gee en klaarkry. Nou moet hy hier in ’n verlate klaskamer sit, met net mevrou Steyn vir geselskap. Watter onaangename geselskap! Elke keer as hy opkyk na waar Ou Igora die Angora agter die lessenaar sit, vang hy haar dat sy hom stip dophou. Soos ’n vlieg onder ’n mikroskoop. Dan kyk Rudi maar weer af na die boek voor hom. Geskiedenis. Dinge wat eeue gelede gebeur het, het nog nooit vir hom so min beteken soos vandag nie. Hy gaan die volgende toets in elk geval weer pluk! Meer as die helfte van die twee uur is darem al verby. Die skoonmakers is teen dié tyd al weg en die skool is verlate. Daar is nie vanmiddag sport nie. Rudi staar na die bladsy voor hom. So baie woorde . . . Toe hoor hy ’n motor by die hek inkom. Hy kyk by die venster uit, net betyds om ’n mosterdkleurige motor by die parkeerterrein te sien inry. Dan is dit buite sig. Dit hou stil en Rudi hoor hoe die enjin afgeskakel word en ’n deur toeslaan. Mevrou Steyn staan van agter die lessenaar op en gaan venster toe. Sy wink vir iemand, dan kyk sy om en sien Rudi hou haar dop. “Dis net my man. Gaan aan met jou leerwerk.” Hy kyk weer af na die boek. Iets hinder hom. Die Steyns het twee motors: dokter Steyn se Mercedes waarin sy ma amper Saterdagoggend vasgery het . . . en mevrou Steyn se ligblou BMW. Die skoolhoof beweeg weg van die venster en kom staan reg agter Rudi, sodat hy geen ander keuse het as om na die oop boek te kyk nie.
Die gebou is so stil dat hy kan hoor hoe dokter Steyn die skool se deur by die hoofingang oopstoot. Sy brein werk oortyd. Die Steyns het mos nie ’n mosterdkleurige motor nie . . . Daar is voetstappe by die ingangsportaal. Tensy daar ’n derde motor is wat hulle iewers wegsteek . . . Sy mond val oop. Dis hulle! Daardie middag toe hy mevrou Steyn in haar kantoor laat skrik het . . . Sy het geskrik omdat sy besig was om haar man te laat weet Werner is op pad – sodat hy hom kon omry! Rudi spring uit die bank uit op. Hy leun by die venster uit om buitentoe te kyk. Hy raak yskoud toe hy dit sien: Die motor is voor aan albei kante ingeduik. Rudi se instink neem oor. Hy spring opsy, net toe mevrou Steyn van agter na hom gryp. En hy begin hardloop. “Staan stil!” skree sy. Maar hy is reeds by die klaskamer se deur. Hy pluk dit oop, pluk dit weer agter hom toe. Onder by die ingangsportaal sien hy dokter Steyn. Hy dra sy wit jassie. Hy is besig om ’n spuitnaald vol vloeistof te maak. Hy hou dit in die lug op. Rudi weet daardie inspuiting is vir hóm bedoel. Hy was nog nooit so bang nie. Mevrou Steyn probeer die klaskamer se deur oopruk, maar Rudi kry dit reg om die deurknop vas te hou. “Los die deur!” skreeu sy.
Behalwe die spuitnaald, blink nóg iets in die lig: dokter Steyn se bril. Nou besef Rudi dít is wat hy by die pretpark gesien het. Dit was nie ’n duiwel wat agter hom aan was nie – dokter Steyn se brillense het die lig weerkaats en soos groot, gloeiende oë gelyk. Hy moes ’n klapmus of iets gedra het, dáárom kon Rudi geen gelaatstrekke sien nie. Hy weet hy moet hardloop, maar hy is lam van skok. Hy klou aan die deurknop vas en hou die deur desperaat toe. Dokter Steyn kom op hom afgestap, die spuitnaald voor hom uitgehou. “Laat los!” gil mevrou Steyn. Dis asof Rudi skielik weer kan dink. Hy laat los. Die deur vlieg oop. Mevrou Steyn verloor haar balans en ploeg op die klaskamer se vloer neer. En Rudi begin hardloop, weg van dokter Steyn af. “Keer hom, Frank!” hoor hy mevrou Steyn gil. “Moenie dat hy wegkom nie!” Rudi nael soos nooit vantevore nie. Hy is amper by die hoek. Dan is hy verby. Nou kan hulle hom nie meer sien nie en hy hardloop nog vinniger. Sy hakke klap op die gangvloer. Waarheen nou? Hy besluit om te mik vir die uitgang by die seunskleedkamer – dis die naaste. As hy eers buite is, is sy kop deur! Hy kyk terug. Dokter Steyn kom om die hoek en die lig weerkaats onheilspellend op sy brillense. Rudi hardloop om die volgende hoek. Daar voor sien hy ’n oop deur. Sodra hy buite is, gaan hy skree en skree. Iemand sál hom hoor! Sy asem brand. Hy moet net nie nou staan en gly nie.
Hy is omtrent dertig tree van die deur af toe dit toeslaan. Hy wil skree, hy wil huil. Hy besef wat gebeur het. Daar is ’n knoppie in mevrou Steyn se kantoor waarmee sy al die skooldeure kan sluit. Sy moes so pas daardie knoppie gedruk het. Angs spoel oor hom. Daar is geen ander gang wat uit dié een vertak nie – hy is vas! Net een deur bly oor: die seunskleedkamer s’n. Hy swenk daar in. Hy skuur tot stilstand. En nou? Waarheen nou? Hy hoor dokter Steyn in die gang nader kom. Bokant die toilette is swaaivensters. Een van hulle is oop. Dis hoog, maar dis sy enigste kans. Rudi spring op die toiletsitplek. Die rand is glad en sy skoen gly. Moenie val nie! Maar dit gebeur; hy val. Hy tref die sementvloer met ’n slag. Sy wind is uit, maar hy sukkel orent. Hy klim weer op die sitplek, staan stewig. Gryp die koue baksteenvensterbank vas. Nou moet hy homself ophys. Hy gebruik al die krag in sy voorarms en skop met sy bene. Die swaaivenster se metaalhaak is in sy pad, maar hy kry dit reg om homself deur die opening op te trek. Sy skouers is deur. Toe is sy hele bolyf deur die venster. Nou nog net sy onderlyf . . . Maar dan voel hy ’n steekpyn in sy linkerboud. Die spuitnaald! Die volgende oomblik begin sy lyf lam word. Daar is geen krag in sy arms oor nie. Hy word hardhandig teruggetrek. Hy probeer vir oulaas vorentoe beur, maar verniet.
Hulle het hom.
20
Hospitaaltyd
Daar’s ’n lied en ’n glimlag vir jou . . . Rudi is seker dis ’n nagmerrie. Hy gaan nou wakker word, veilig in sy bed in sy ma se huis. Hy knip sy oë. Hy is nie in sy bed nie. Hy is in ’n operasiesaal. En hy lê op ’n harde oppervlak. In Hospitaaltyd, onthou . . . Rudi probeer beweeg, maar sy lyf is te lam. Én hy is aan ’n tafel vasgebind. ’n Operasietafel. Hy sien Suné se pa langs hom staan. Dokter Steyn is besig om ’n paar sjirurgiese handskoene aan te trek. Hy het nie meer sy wit jassie aan nie, maar ’n groene – die soort waarin dokters gewoonlik opereer. Hy maak ’n groen masker oor die onderste helfte van sy gesig vas. Verkleur die wolke van grys tot blou . . . Hulle het hom met die motor hierheen gebring. Hy was plat op die agterste sitplek sodat niemand hom kon sien nie. Hulle het agter die Steyns se huis parkeer en hom by die hospitaal se sy-ingang ingedra. Rudi het besef die dokter kon hom nie met sy gewone motor gaan haal het nie, want dit moes hier bly sodat niemand hom met Rudi se verdwyning verbind nie. Agter haar man staan Ou Igora die Angora, ook met ’n groen jassie en masker. Sy gaan die dokter assisteer. Daar is geen verpleegsters nie. Niemand weet hy is hier nie! In Hospitaaltyd, onthou . . .
Hy probeer praat, maar kry nie ’n geluid uit nie. “Rudi . . .” Die dokter buk oor hom. “Knip jou oë een keer as jy my verstaan.” Rudi knip hulle. Die dokter sê: “Jy moet weet ek sou dit nie gedoen het as dit nie absoluut noodsaaklik was nie. Dis vir Suné se onthalwe . . . Daarom voel dit reg dat jý die een is wat die opoffering moet maak. Jy is ook mos lief vir haar.” Rudi hoor ’n kef en besef dis Wagter. Wat maak die poedel hier in die operasiesaal? “Suné is amper weer die meisie wat sy was,” gaan dokter Steyn voort. “Soos jy weet, het sy selfs haar sig teruggekry. Sy sien beter as ooit tevore.” Rudi besef meteens hoekom Werner nou so te sê blind is – hy het nie meer sy regte oë nie! “Ek sien jy verstaan hoe dinge inmekaar steek,” merk die dokter op. “Ja, ek het Werner Kok se oë met Suné s’n omgeruil. Hy het die beste gevaar in die oogtoetse en hulle oë lyk baie dieselfde.” Mevrou Steyn sê: “Net die beste is goed genoeg vir ons dogter!” Die dokter voeg by: “Dit was nie vir my lekker om die kinders om te ry nie, glo my. Maar iéts moes ek doen. Ek het geweet hulle sou hierheen gebring word, en dat ek hulle die een of ander tyd alleen sou kry om op hulle te opereer. As hulle ’n bietjie swakker hier uitstap, sou mense eenvoudig aanneem dis as gevolg van hulle beserings.” “Suné weet niks hiervan nie,” sê die skoolhoof. “Sy dink sy was net gelukkig dat dinge só uitdraai.” Die dokter sê: “Ek het ook vir haar beter gehoor gegee – Tom Stander s’n.” Mevrou Steyn staan nader. “As jou ma nie vir Suné raakgery het nie, sou ons nie een van dié dinge hoef te gedoen het nie!” Rudi se oë rek.
“Dis reg.” Die dokter se stem is dof agter die groen masker. “Ons het nie geweet dit was jou ma nie. Eers toe julle Saterdagoggend by die skool amper in my vasry, het ek die duik in haar motor gesien . . . en dadelik geweet. Ek kon net na haar staar, so woedend was ek. En sy het rooi geword – omdat sy besef het ek weet dit was sy.” Om te dink hy wat Rudi is, het geglo hulle bloos omdat hulle ’n verhouding het! “Daarom is dit nog méér gepas dat jy die een is wat die grootste opoffering moet maak,” voeg mevrou Steyn by. Dis die tweede keer dat hulle die woord gebruik. Watse opoffering? “Soos jy weet,” sê die dokter, “is Suné nou amper gesond. Oor haar bene is ek nie meer bekommerd nie; sy loop al amper weer normaal. Maar haar hart . . .” Rudi se asem slaan weg. Hulle gaan sy hart uithaal en dit vir Suné gee! “Ek sien jy weet hoe dit gaan werk,” sê dokter Steyn. “Ek is bevrees ons het geen ander keuse nie.” Hy lig ’n operasiemes en toets dit teen ’n stukkie lap. Dis so skerp, dit gly sonder enige moeite daardeur. “Dis hoekom ons die toetse by die skool gedoen het,” verduidelik die hoof. “Ons moes uitvind wie se hart en bloed die beste by Suné sou pas.” Die dokter vryf sy bril teen sy jassie. “Alles het op jou gedui. Maar moenie bekommerd wees nie; ons gaan jou nie doodmaak nie. Jy sal nog in die omtrek wees.” “Vertel vir hom van jou briljante plan, Frank,” sê die hoof. “Hy het die reg om te weet wat gaan gebeur voor ons hom onder verdowing sit.” Dokter Steyn glimlag. “Dis eenvoudig. Kyk, hondjies soos Wagter leef nie vir altyd nie. As ons vir hom Suné se hart gee, sal hy ’n bietjie gouer doodgaan, dis al. Dan gee ons vir Suné jou gesonde hart. Daarmee sal sy óúd kan word.” Rudi tel een en een bymekaar, en kry twee. Daar moet mos nog ’n hart in die prentjie wees! Wat van hóm?
“Jy gaan Wagter se hart kry,” kondig dokter Steyn aan. “Ek sal iets aan jou brein doen sodat jy vir niemand kan vertel wat gebeur het nie. Maar dan sal jy vir altyd naby Suné kan wees. Jy en jou ma kan maar by ons kom woon. Ek is seker jou ma sal instem as ons haar genoeg geld aanbied.” Rudi wil skree, maar sy lippe roer nie. “Nou het ek genoeg verduidelik,” sê dokter Steyn. “Dis tyd dat ons begin.” Hy tel die operasiemes op. Dit blink in die teaterlig. Mevrou Steyn vra: “Kan ek hom maar onder verdowing sit, Frank?” “Ja, Igora, dankie.” Die hoof bring ’n deurskynende plastiekmasker nader. Rudi probeer sy kop wegruk, maar tevergeefs. Sy druk dit oor sy mond en neus vas. “Ontspan,” sê die vrou. “As jy wakker word, is alles verby. Jy sal nog soos jy lyk, maar jy sal soos Wagter dink.” In die agtergrond blaf die hond. Rudi probeer vergeet van alles. Dit sal die maklikste wees. Daar’s ’n lied en ’n glimlag vir jou, sê hy vir homself. Hy is mos lief vir Suné. Het hy dan nie vir homself gesê hy sal enigiets doen om haar weer gesond te kry nie? Nou moet hy dit bewys. “Moenie!” Eers weet Rudi nie wie dit uitgeroep het nie. Dan besef hy dit was Suné se stem. Die masker word van sy gesig af gelig en hy sluk na asem. Hy hoor iemand nader kom, iemand wat sukkel. Dan buk Suné oor hom. “Is jy oukei, Rudi?” “Um,” kry hy dit uiteindelik reg om ’n geluid te maak.
“Ek het alles gehoor,” sê sy beskuldigend vir haar ouers. “Ek het die motor hoor stilhou, en toe sien ek hoe julle Rudi hierheen bring. Is julle mal!” Haar pa se skouers hang. “My kind, dis vir jou eie beswil.” Wagter blaf asof hy die meisie wil oorreed. Maar sy sê ferm: “Julle los vir Rudi! Nou dadelik!” “Maar my kind . . .” “As ek veronderstel is om een van die dae aan my hart dood te gaan, dan is dit oukei! Dis ’n kans wat ek sal vat.” “Ons kan jou red!” “Ek glo ek gaan gesond word. Op my eie! Ek weet julle doen dit alles vir my – maar moenie verder inmeng nie. Dis my lewe en dis mý besluit.” “Moenie na haar luister nie, Frank.” Die skoolhoof druk vasberade die plastiekmasker weer oor Rudi se gesig. “Sny en kry klaar.” Die dokter aarsel ’n oomblik en kyk na sy dogter. Suné beweeg vorentoe en klap die operasiemes uit sy hand. Dit val kletterend op die vloer. “Nee, Mamma!” Suné stamp haar ma weg van Rudi af. “Julle los hom, hoor julle my? Los hom uit!” Rudi het haar stem nog nooit só hoor klink nie. Haar oë gloei amper onmenslik. Suné se ouers kyk haar geskok aan. Die skoolhoof beweeg onseker na haar man toe. Hulle hou mekaar vas. Die twee mense lyk verslae. Dan raak Suné se uitdrukking weer sag. Sy sit haar hande op hulle skouers om hulle te troos. Asof sy die volwassene is.
21
Huis toe
Rudi is agter in die motor. Voor sit dokter en mevrou Steyn. Hulle neem hom huis toe. Suné is terug in die bed. “Asseblief, moenie vir jou ma of die polisie vertel nie,” smeek mevrou Steyn. “Ons sal in die tronk beland, en wat word dan van Suné?” “Ons wou ons kind net help,” voeg dokter Steyn by. “Ek . . .” Rudi weet nie wat om te sê nie. Hy het darem al sy stem terug. En hy kan sy arms beweeg. Die res van hom is nog lam. Dan is hulle by sy ma se huis. Rudi weet nie wie die grootste skok kry nie, hy of die Steyns, toe hulle die polisiemotor in die oprit gewaar. “Kom, my man, nou moet ons sterk wees,” sê mevrou Steyn. Saam help hulle Rudi uit die motor en oor die grasperk na die voordeur. Dokter Steyn klop nog nie eens nie, toe vlieg die voordeur oop. Sy ma staan daar, weer rooi in die gesig. “Rudi!” Sy laat val haar sigaret en gryp hom aan die skouers. Hy verloor sy balans en slaan amper om. “Wat makeer, my kind?!” “Toe maar, Ma, ek’s orraait.” Agter sy ma staan sersant Kotze. Ook hy laat val sy sigaret. Hy help die ander om Rudi na sy kamer te neem.
Toe Rudi gemaklik lê, verduidelik dokter Steyn: “Ek en my vrou het op hom afgekom. Hy het langs die pad gelê. Hy moes ’n spierspasma of iets gekry het. ’n Mens weet nie altyd wat sulke pyne veroorsaak nie.” “Toe gee my man hom ’n inspuiting,” las mevrou Steyn by. “En soos julle kan sien, is hy nou amper weer reg.” Hulle kyk hoopvol na Rudi. Dis die moeilikste situasie waarin hy nog ooit was. As hy nou die verkeerde ding sê en die waarheid praat, kan hy hulle albei se lewens verwoes. En sy en Suné s’n ook! Dan sal hy en Suné nooit kan trou nie. Wat hierdie mense ook al verkeerd gedoen het, was omdat hulle lief is vir haar . . . En sy ma hét mos die hele ding begin. “Seun,” hoor hy sersant Kotze se stem, “vertel ons alles wat jy onthou.” Vier volwassenes kyk af na hom. Hy weet die woorde wat nóú uit sy mond kom, gaan alles maak of breek. Dis so moeilik! In al die boeke, TV-programme en flieks is dit altyd so duidelik wat reg en verkeerd is. Dis wit en swart. Maar nou lyk alles vir hom grys! Hy wens die lewe kon so eenvoudig wees soos in ’n storie. Maar hy weet dit is nie. As jy grootword, moet jy kies. En hy kies. “Ek onthou niks nie,” sê hy vir die sersant. “Toe ek wakker word, was die dokter by my. Hy was so nice om my ’n inspuiting te gee. Ek voel nou beter.”
“Ai, my kind, ek is so dankbaar!” roep Rudi se ma uit. Maar sy soen hóm nie – sy gooi haarself in sersant Kotze se arms. “Toe nou maar, Mevrou,” mompel die polisieman verleë. “Ek was so bekommerd! Dis hoekom ek die polisie gebel het!” “Dis als reg.” Dit lyk darem nie asof hy ómgee dat Rudi se ma se goudgeel kop op sy skouer rus nie. Rudi kyk na die Steyns. In ruil vir sy stilte gaan hy één ding eis: die dokter moet vir Werner en Tom aanhou behandel tot hulle weer heeltemal gesond is. Hy dink darem hy het reg besluit. Hy hoop hy voel oor tien jaar of wat nog so.
22
Tien jaar later
’n Volle dekade het verbygegaan. Rudi is lankal uit die skool, al moes hy sy matriekjaar herhaal. Hy het later harder begin leer, maar nooit slimmer geword nie. Ja-nee, die lewe is nie so eenvoudig soos in sommige stories nie. Hy het nou al by ’n paar plekke gewerk, maar is elke slag afgedank. Partykeer was hy nalatig, ander kere het hy dinge vergeet. Hy is ook maar aan die lui kant. Rudi en Suné het toe getrou. Sy is gesond. Sy loop, sien en hoor uitstekend. Maar sy hou daarvan om by die huis rond te sit. Omtrent elke keer as haar ma haar vra om met die huistakies te help, kla sy van ’n kastige pyn op die hart. Hulle woon by Suné se ouers – want dis gerieflik, en Suné het aan ’n goeie lewenstyl gewoond geraak. Nou en dan gaan loer hulle by Rudi se ma in. Sy het met sersant Kotze getrou. Elke keer as ’n mens by die huis ingaan, wil jy verstik in ’n wolk parfuum en sigaretrook. Wagter leef nog altyd. Hy en Suné is steeds onafskeidbaar. Wagter grom as Rudi dit te na aan Suné waag. Hy slaap snags tussen hulle. Die hospitaal is natuurlik nog reg agter die huis. Rudi probeer om nooit in daardie rigting te kyk nie, maar elke nou en dan dwaal sy oë tóg soontoe. Dan onthou hy hoe hy daar verlam gelê en wag het om geopereer te word. Die meeste van die tyd hou hy egter van sy skoonouers. Hulle is goeie, doodgewone mense wat probeer om die regte dinge te doen. Dis net, soms . . . As Rudi skielik op sy skoonma afkom waar sy oor die telefoon praat, verbeel hy hom sy is besig om te reël dat daar iewers ’n kind omgery moet word.
Maar natuurlik praat sy net met ’n vriendin. En soms . . . As hulle aan tafel sit en dokter Steyn sny sy vleis in sulke klein, netjiese stukkies . . . Dan is dit vir Rudi moeilik om nie te onthou nie. En nie te gril nie.
Rudi is nou al twee keer deur iemand in ’n motor agtervolg. Daar is reeds drie kinders van sy skool omgery en elke keer het die skuldige weggekom. Die eerste een was Suné, sy meisie. Wat is haar verbintenis met die ander twee? En hoekom tree die kinders wat omgery is so anders op wanneer hulle uit die hospitaal kom? Min weet Rudi dat hy baie na aan die antwoorde op al sy vrae is, en lig gaan hy nie daarvan afkom nie . . .
François Bloemhof is die skrywer van meer as 50 boeke in Afrikaans. Hy is ook bekend vir sy verhoogen radiowerk en skryf gereeld vir tydskrifte en koerante. Hy is mal oor rekenaars en programme en goed. Hy het vier katte, maar nie een van hulle is swart nie. Hy’s verslaaf aan sjokolade en hy droom in kleur.
Kyk uit vir al die titels in die reeks:
Die Speletjie The Gotcha Game Die Vrou met die Pers Oog The Lady with the Purple Eye Die Waterding The Water Creature Ou Langklou Old Aunty Claws Donkerwoud Kamer 13 Hospitaaltyd Die Vampiere van Londen
Kopiereg © 2002 in teks deur François Bloemhof Tweede gedrukte uitgawe 2013 deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NBUitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms) Bpk, Heerengracht 40, Kaapstad Posbus 6525, Roggebaai 8001, Suid-Afrika Gedrukte uitgawe ontwerp en geset deur Teresa Williams www.humanrousseau.com Besoek ons ook by www.facebook.com/NBJongklomp
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting.
Omslagontwerp deur Chenél Ferreira-Lotz E-boekontwerp Nielfa Cassiem-Carelse
Gedrukte uitgawe: Tweede uitgawe 2013 ISBN: 978-0-7981-5764-3
Epub-uitgawe: Eerste uitgawe 2013 ISBN: 978-0-7981-5765-0 (epub)
Mobi-uitgawe: Eerste uitgawe 2013 ISBN: 978-0-7981-6423-8 (mobi)