Koljander
Carié Maas
Human & Rousseau
Vir Henry Liversage
Hoofstuk 1
“Trek uit jou hemp,” hoor Hendrik Karen se stem deur die skrefie van die deur. Hel, skrik hy hom skoon regop. “Karen,” sê sy skoonseun, ook so halfhol oor die teëls, maar dit is asof die jammerte die verwyt in sy stem inhaal en vastrap. Hendrik hoor ’n geritsel van materiaal vanuit die toe kamer, maar leun gou teen die muur terug toe hy haastige voetstappe in ’n dwarsgang hoor nader kom. Hy maak asof hy die afdruk van ’n blom of ’n ding aan die oorkantste muur verveeld staan en dophou terwyl die mense agter hom klaarmaak. In ’n private hospitaalkamer is daar mos nie die afskorting van daardie stortgordyne om die bed nie – net so grillerig en glad soos die operasiesaalgroen wat dokters in die gange dra. En dank die hemel die verpleegster knik net haar kop en groet hom nie hardop in die nagstilte nie. Sy het Bettie-kuite op plat hakke. Hoelykit! het ’n petroljoggie hom die ander dag gespot, juis toe hy opkyk na ’n mooi vrou. ’n Ou bal, noem die jonges jou mos nou, asof ’n liesbreuk of prostaatgelol nie ook op dié MXit-poepholle wag nie. Aan weerskant van die gang hang daar elke twee meter iets van ’n Impressionis, die pastelle nog pisseriger deur die glas; Karen kry seker die stuipe. En desjare se haaks besoekerstoele staan nou ewe gestoffeerd na mekaar toe gedraai, net asof dit ’n verskil sal maak. Is daar iets wat hy meer haat as ’n hospitaal? Dit is net teëls so ver as wat die oog kan sien. Hoeveel drome het ’n ou nie gehad toe jy met getrimde sidies voor die
preekstoel gestaan het nie, die soet van die katjiepiering op jou lapel in jou neusgate. Jy sou die pilaar wees waarop almal steun, maar die werklikheid is toe dat dit bly voel asof jy immer voete van klei het: die veronderstelde vader van die huis. En vir hierdie geboorte, was die spanning nie byna ondraagliker nie? Elke moontlike voorsorgmaatreël is getref: vrugwatertoetse en sonars, alles werklikhede wat in sy en Bertha se tyd nie eens ’n gedagte was nie. Maar nog altyd die angs dat iets kan skeefloop. En later, sê nou ’n pa was nie op sy pos nie? Vra vir ’n fisikus, vyf minute kan ’n leeftyd wees. Dit is ’n verskil of versuim wat ’n lewensverwyt kan word. Nee, dit is reg dat hy hier is, dat hy kom kyk het wat aangaan. Al hou hy hom skraal agter ’n toe deur. Toe hy die kameralens uit die gulp hoor glip, ontspan sy skouers en sy mondhoeke trek. Karen neem net foto’s. “Bring die verwarmer nader en haal sy kombersie af, asseblief,” sê sy. Die “asseblief” is seker boetedoening omdat sy te ver gaan. Die kind is dan skaars twee dae oud! “Liefling,” probeer die onbeholpe Ben weer, maar Hendrik hoor tog ’n bedveer kraak. “En as hy ’n koue kry?” Sy dogter antwoord net met die sluiter. Die blerrie Karen. Sy neem nou pa en seun saam af. Hy wil-wil kwaad word. Die perfekte prentjie. Dit is wat sy moet bly skep, al is die prys ook wat. ’n Groot, sterk, nog bruingebrande borsharepa teenoor die pap, weerlose wit babatjie; as sy nie die kamera boonop vir dramatiese effek op swart en wit gestel het nie, die lakens sonder twyfel reeds gestileer soos vir ’n tydskrif. “Links,” onderbreek sy die geklik. “Na die lig toe.” Klik. “Draai hom.” Klik. “Kyk vir die lens.” Sal hy wat Hendrik is met grys borshare en al hierdie winterjas ooppluk en “dadam!” die kamer binnespring vir sý rol in die kaalprent?
Toe die baba ’n kreungeluidjie maak, sê Ben: “Dis genoeg.” En die klikke kom al hoe stadiger. “Hou jy hom ’n bietjie, Karen.” Hy kom agter dat hy saam met die stilte asem ophou. Bertha het in die motor bly sit, en sowaar vir ’n tweede keer gepleit: “Los nou eers die kinders, Hendrik, hulle verwag ons eers later.” Maar hy moes mos net gou kom hoor. Sy kleinseun! As Karen se kind tog net ’n nuwe begin kan wees, ’n impakspeler wat net voor beseringstyd op die veld kom en die blerrie WP ’n slag laat wen. ’n Gesinsfoto van hom en Bertha en die twee kinders kon hulle nooit laat neem nie – nie eens daai sagte lense of flokatimatte van die jare tagtig waarvan mens kon kots, sou dit knussies kon laat lyk nie. Nog minder as wat lief blompies in die maanskyn op die voorgrond die prentjie sou red. Sy ouer broer het altyd gemeen naas jou gesin is jou werk die curriculum vitae van jou doen en late. En kyk nou met watter skoen onder die alie is hy weg by die universiteit. Buitendien, net in die laaste handvol jare het soveel begrippe bygekom wat hom, indoena in sy veld, oorbodig kan verklaar. Pleks van aan die voorpunt van tegnologie in die fisikadepartement, word mens oornag ’n ou man in ’n velrok wat weer twee stukkies hout grinterig vryf tot ’n vuurvonk vlam vat in sy grot. Nog ’n jaar of wat en Cambridge en die Amerikaners sal sy foto en al sy navorsing oor termodinamika in sepia was. Hoe is dit dan dat die minusse van dié soort optelsom altyd die grootste gaap? “Ek vat die baba dan maar gou eers weer vir ’n rukkie terug vir die suster,” sêvra Ben. “Ek moet nog gaan regmaak met die gastehuis voor jou ouers kom.” Hendrik skil hom met lang, stil treë van die deur los en om die draai haas hy hom na onder, na die motor waar Bertha vir hom wag. Die bordjies is verhang. Sy sit seker met dieselfde rusteloosheid as waarmee hy gisteroggend onder die sipresse die stuurwiel sit en tik het tot hulle hul ry na die noorde kon kry.
“Het jy Ben en Karen gesien?” vra sy vrou. “Nee, ek wou net gaan hoor of alles reg is.” “Ek hoop jy het jou oortjies in,” sê sy droog. “Die goed maak my seer,” mompel hy. In die donker doof sy seker ’n proes en snuit haastig ’n neus skoon uit, dalk uit verligting dat hy nie die kinders gepla het nie.
Hoofstuk 2
Karen wil iets in die kamer teken, maar nie ’n traliebed of alomteenwoordige nierbakkie nie. Netnou, in die helderte van die buislig, was die mure nog blouwit. In die kringskadu wat die muurlamp gooi, lyk dit sagter. Daardie boek oor sukses wat Ben by Jakob gekry het, sê Inuïete het toe nie ’n dosyn woorde vir wit nie. Of was dit vir sneeu? Dit bly ’n mooi gedagte. Soos igloe. ’n Woord wat koester, rond, soos die ruimte om jou. ’n Eie klein wêreld. Die rit in haar kinderjare met die bakkie van oom Dawie se plaas af dorp toe was net so. Pa-hulle het voor ingeryg gesit en sy het agterop onder ’n deken gery. Deur twee sigaretgaatjies in die lap kon sy loer na die motors wat naderkom en verbyry. Of sy kon haar oë weer toeknyp en verdwyn in die blou beskutting wat om haar in die wind geklap het. Sy moes verbete aan die vlerkpante klou. As sy heeltemal omgedraai het, kon sy Pa en oom Dawie se koppe van agter sien, koppe wat gesels en lag. Mens kon dit sien, al kon mens in daardie wind niks hoor nie. Rouxtjie se gesig was kant toe gedraai. Hy het haar natuurlik probeer sien, maar selfs as hy sou kon omdraai, het hy te skeef gesit en was sy kop te teruggesak in sy nek. Sy ore het nie eens uitgesteek nie. As sy die gaatjies teen haar oë gehou het, kon sy hulle al drie tegelykertyd sien, maar sy het liewers teruggedraai. Sy het haar vaster gewoel in die deken, teen die wind en in die blou. Met die lilapastel wat sy uit die dosie vat, begin sy los strepe oor die wit vel trek. Dominique sal uitbars van die lag omdat sy vir ’n verandering so sonder die dissipline van ’n buitelyn begin, maar dié is ook voorbereiding, al sal dit later onder die res van die kleur verdwyn. Die belang van grondwerk – letterlik – het sy eienaardig genoeg by haar ma geleer, tydens hulle gesteelde tydjies in die tuin. Sy sien die beeld voor haar soos gister: Haar ma krap die saamgeperste klei om
die wortels los, lig die saailing uit en plant dit weer, ’n aks linkser. Dalk het sy te stip vir haar ma gesit en kyk, want dié het met haar oë op die volgende plantjie gesê: “Lote kry ’n lewe van hulle eie, my kind.” Haar ma met haar toe al verborge woorde. Dit is Heleen se irisse, die hele pad uit Nieu-Seeland bestel, wat op die papier vorm kry. Die wilde pers spatsel staan uit teen die piramide krisante wat Eerste Nasionale Bank gestuur het, en die sterk lyne gee oor in ’n losheid, in die mins beteuelde van alle kroonblare. Die los stingels is verkieslik bo die appels, pere, druiwe en trietsige mango wat nog een van haar korporatiewe kliënte gestuur het, ’n stillewe in sellofaan tussen die oordaad blomme. Óf die nuwe persoonlike assistent het deurmekaar geraak en vergeet die ruiker is bestem vir die hoogswanger ontwerper wat hulle kombuis oorgedoen het óf die bloemiste het twee ruikers se boodskappe omgeruil. Word gou gesond, lui die kaartjie. Sy rol weer haar oë. Het die Engelse nie hoeka van ’n condition gepraat nie? Vader, die ou gesiggie is gebore, met sy blindblou oë en sy voorkop wat so vinnig in ’n frons span. Hy wat aan die troos van sy vuisie bly proe. Die vertedering maak haar weer rou. “Ben, ek sê jou, iemand soos ek moenie ’n kind hê nie,” het sy nog probeer teëstribbel, al het sy geweet ná twaalf maande se gestry was die skrif aan die muur. “Vir hoe lank, Karen, wil jy nog agter jou broer se onvoorsiene dood skuil om ons ’n gesin te ontsê? Ons word nie jonger nie!” Sy kon nie glo dat hy die onsêbare opgehaal het nie, dat hy, ’n plaaskind, binnewoorde soos ’n afgeslagte gemsbokvel onbehandel en vleiskant bo in die son oopgespan en vasgespalk het. Maar hy het breekpunt bereik en die pakkie met die agt en twintig blink pyltjies op in die asblik gesmyt.
Later het hy haar een nag met een van sy plaasstories gesus. Hy het in haar hare gefluister, liewe Ben, teen die weerloosheid van haar nek, en toe het sy lippe geproe-proe al langs haar ruggraat af. En daarna het sy nag vir nag gewonder oor die pad van die saad. Eers het die waterige urine die blokkie pienk gekleur en later het die vaal mat in die ginekoloog se kamers gekom. En mettertyd het die skerm ’n sterrenag in wiegvorm gewys. Kyk, daar sit die kind se geslag. En algaande groei die bewussyn in mens, vinniger as die vlees van jou vlees: Hy kom. Miskien sal hy altyd binne bly, dink jy, in sy voorwêreldse water. Hy was ’n stil kind wat net soms na die einde toe in die nanag geskop het teen die beperkinge van sy vrugsak se wande. Het hy geweet hoe bang sy was vir wat kom? Is dit hoekom sy lyfie net met kommas en geen uitroepe nie gepraat het? Geluidloos. Dit is ook hoe hy, Ben en die suster die eerste dag hier uit is. “Is dit goed as ons eers die baba uitskuif?” het Ben vir die uniform gevra, asof hy geweet het sy aantreklikheid gee hom ’n onregverdige voordeel as hy die suster in die oë sou kyk. Die koorspen het vir ’n oomblik in die suster se hande stil geword, en toe het sy haar kop geknik. Ben, wat altyd hou van redeneer, het saam met die suster sy kop geknik asof hy bang was vir sy eie idioom. Met ogen die wisten, het haar pa soms geprewel as mense verby hulle gesin loop en na Rouxtjie staar. Só is die suster hier uit, haar ongemak of weersin versluier deur haar ooglede; die ma makeer dan niks, want op haar verslagkaart wys geen medikasie nie. “Kier,” het die blikwiele van die waentjie gemaak toe sy die baba begin stoot, maar nog ’n gekras het nie gekom nie. Die vrou het haar nou netjies ingedeel volgens die gekleurde lêerstelsel in haar kop. Pas sy in een van daardie wat tot teenaan die drukboog se hefboom met kolhase of strepe of abstrakte patrone oorgetrek is? Maar sy is voorbereid, al dink die suster wat. Voor haar bed by die huis lê die
boekie met ’n lys pediaters se nommers uit die gids. En sy kon al in haar kinderjare raakvat met ’n koorspen. Die glasbuisie met sy minuskule hoeveelheid rooi alkohol is die eintlike meetinstrument. En een graad maak ’n verskil: 37,5 is normaal, 39 is skrik. Haar oë vergelyk weer die irisse in die pot en dié op die papier. Genade, moet sy eerder solank aan die ontwerpprojek werk? Maar nee, netnou is dit te gou. Haar ma sal in haar stilligheid hart vashou as sy hier moet afkom op ’n hospitaalbed wat omskep is in ’n soort stelbouersateljee besaai met materiale, sjablone en skematiese voorstellings. En tuis moet sy buitendien nog eers ’n projek of twee, drie afhandel. Sy sal die suster sus met ’n skets van die baba. ’n Paar sirkels en skadu’s in potlood kan wondere verrig in die land van dié wat net stokmanne kan teken. Dit sal die maklikste verklaring wees vir haar wegskram van die baba. Tot tyd en wyl sy die moed kry om dié toets in almal se oë te slaag: Karen moet ’n kind grootkry. Op haar eie. Sal mens haar nou, soveel jare later, kan vertrou? “Ja, man, moet jou nou nie kom simpel hou nie,” sal haar pa vir almal blaf. Hy sal. En haar ma sal seker met net ’n paar kraaloë antwoord. Wie weet wat die ooms en tannies destyds gedink het. “Julle, kunstenaars is maar weird,” sal die suster, tekening in die hand, vir haar kollegas agter hulle toonbank sê, en tas oor die skêrtjie in haar bosak, of loer op die horlosie wat aan sy ses skakels hang.
Hoofstuk 3
Hier aan die Rand vertrap mense mekaar ook oral, verdomp. Voor die kykglas is nog ’n klomp oumas en oupas wat saam met hom en Bertha militêr betyds staan en wag dat die suster die gordyntjie van die babasaal se vertoonvenster ooppluk. “Hendrik.” Bertha se sagte stem beteken seker hy moet ophou staar na die ou wat voor hulle ingedruk het. Sy kyk na haar horlosie. “Sal ons besoek strook met sy roetine?” het sy vrou ook al klaar gisteraand vir Ben by die gastehuis gevra. Mens moet “oe” en “a” al is hulle almal skreeulelik. ’n Pasgebore baba is ’n uilskuiken of niks anders as ’n skoongeskeerde bobbejaantjie nie – al moet mens volgens die voorskrifte liries raak. “Kyk hoe volmaak gevorm is die oortjie al, Pappie,” koer die vrou langs hulle toe die suster die eerste baba omhoog hou. “En sy ou handjie.” Bles Pappie van seker vyf en vyftig sluk aan die knop in sy keel, bly aan sy neus vat en pomp Hendrik in die ribbes. “Dis ons eerste kleinkind, van die oudste seun,” verduidelik hy met so ’n halfoop glimlag. “Is dit nie nes ’n spesiale soort ouer wees nie?” knoop Mammie ewe gemeensaam ’n geselsie aan. “Mens kan sommer sien julle is dit al meer gewoond as ons.” Die vrou moet heldersiende wees. “’n Spesiale ouer?” vra Bertha, heeltemal uit haar aard, asof sy tas na die begrip. Hy kan sy vrou iets aandoen, maar gelukkig wis die stamelende mense van niks en is Ben iewers agter in die skaapbondel. “Mens raak iets spesiaals nooit gewoond nie,” sê Bertha sag, miskien eerder vir haarself, maar Mammie en Pappie blom oor dié Radio Kansel-antwoord wat
hulle wou gehad het. As hy net in hierdie dae sy bek gehou kan kry. Toe Ben aan sy skouer vat, skrik hy. “Dis nou sy beurt, Pa.” Onwillekeurig reik hy na sy vrou se hand. Die ogies is bot toe, mens kan nie ’n ding op dié afstand eien nie, maar iewers in sy derms pluk ’n spier. Dit is tog ’n perfekte gevreetjie en die suster woel aan die kombers sodat die lappopgesig sowaar ’n nekkie wys. “Hierdie trots is ’n ander trots, ou Ben!” het hy en die glas rooi gisteraand gesê. Dié keer het Bertha se oë nogal kraaipootjies gemaak vir haar man. “Laat jou skoonpa jou nou vertel, dit is nie soos om skoonskip te maak met al die ouens se albasters nie. Dit is nie die belle of the ball wat ja gesê het vir ’n dans nie. Dit is nie eens ’n ou se M met lof nie ...” En Ben het gelag. Maar nou weet hy van beter. Dit is die warmte en soet deur jou hele lyf van ’n koppie dun vla wat sy ma bed toe gebring het as hy kleintyd siek was. Langs hom is al die kleur uit Bertha se wange, maar hy weet sy sal nie huil nie, haar mond is net sag, en haar oë. “Nee, gaan staan julle ook voor die ruit soos die ander mense,” het Karen hulle netnou uit haar kamer geboender. Te gou, te gou is dit die volgende baba se beurt. Net die kringe onder Karen se oë lyk vir hom aardig, al borsvoed sy glo ook nie. Maar sy klink nie vir hom sleg nie. Hy wonder wat sy ouma daarvan sou gesê het: “Het sy dan haar melk weggeskrik?” Karen sou die piep gekry het oor so ’n dwars woord in haar privaatheid in; min
sal sy weet hoe moeilik die Nederlandsheid in sy vader se moeder verwater het. Miskien wou sy nie by wees wanneer Bertha die kleintjie die eerste keer sien nie. Hy is bly hy en Ben het netnou in die binnehof, waar ’n man ’n dampie mag slaan, ’n gedagte of wat geruil. Buite rook was sy voorland, al die jare, lank voor vandag se wette. Koue of reën, op die stoep, en die sigarette se bêreplek was altyd ver bo in die kas. Die vierkant is skaars ’n meter of drie by twee met wit wintergras, hardnekkige impatiëns in twee potte en ’n bank. En ’n selonsroos. Hoe plant hulle dan so ’n gifboom waar kinders kan kom? Net so bolangs was sy en Ben se praat, soos ’n stetoskoop se koud tussen die blaaie. Met die onderkant van sy tone het Ben na een van die potte staan en skop. “Nee wat, vir my lyk Karen heeltemal goed, al het sy die ginekoloog se arm probeer draai om langer in die hospitaal te kan bly,” het sy skoonseun gesê. “Sy het dan tot gevra vir haar tekengoed.” Dié belangstelling van haar wat al uit die paddaklasse kom, sal seker wragtig nooit taan nie.
“Die mens bly maar aperig,” sê hy toe hulle by Karen instap. Sy hart ruk. Op haar gesig is daardie selfde verleë-bly onsekerheid van ná ’n wedloop. “Dis Nagmaal op Kestell voor daardie venster, sê ek jou.” “Ja, Hendrik, sê die een wat lyk asof hy ’n piering room gesteel het,” onderbreek Bertha hom, weer so teen haar geaardheid. Wat gaan aan? “Mens vergeet hoe klein so ’n seuntjie kan wees,” voeg sy nadenkend by, asof haar eerste sin te haastig was, en nog voor hy sy verleentheid kan wegsnork. Karen kyk deur die venster en ’n stilte wil posvat. Maar Ben maak keel skoon. “Pa, Ma, ek het slegte nuus.” Bertha se hand, wat pas na haar mond op pad was, maak sy pad klaar. “Moet net nie ...”
“Nee, nee, die baba is piekfyn, Ma. Julle het mos gesien.” “Tien toontjies, tien vingertjies,” sê Karen vinnig. “Ek het nie besef wat ’n kwessie ’n baba se gewig is nie; dit is wat al my vriendinne heel eerste wou weet. Hulle sê 3,5 kilogram is gesond, en hy het ná die geboorte net ’n bietjie verloor. Hulle sê dit is normaal, Ma, dié verlies.” Dit lyk sowaar asof Bertha wil huil. “Hy het die mooiste gesiggie,” sê sy, haar stem skor van wat nie gesê kom nie. “Ons het ons Group Five-kontrak verloor,” sê Ben. “O hel, ou Ben!” Sy hand vlieg na sy skoonseun se skouer. Bertha se nek ruk verskrik, maar toe kyk sy vinnig af. “Ons sal oukei wees,” piep Karen. Praat van ’n emmer koue water. “Die euforie oor die Sokkerwêreldbeker wat kom, was tot nou toe ’n buffer tussen die resessie en die konstruksiebedryf. Die groot ouens, waaroor die koerante die graagste skryf, is nog reg,” sê Ben gelate. “Die ou wat die uitkontraktering doen, het my verlede week ingeroep en hy kon nie besluit of hy moet staan of sit terwyl hy met my praat nie, want hy het geweet Karen is op haar laaste.” “Die bliksems!” “Dis maar hoe die dinge loop, Pa,” trek Ben sy skouers op. “Wat gaan julle nou maak?” “Wel, Pa, die geboorte was ’n bietjie op dié storie, ek sal nou maar nog moet gaan sit en somme maak en kyk. Maar met die Wêreldbekerplan wat skeefgeloop het en die tendergemors met daardie brug vir die myn is ek in elk geval lelik in die knyp. Die kleiner kontrakte begin skaarser raak en een ontleder meen ná die sokker gaan dit eers ’n gemors wees. Die pêre wat huise bou, kou ook al klippe. En sonder ’n bestelboek sal dit byna onmoontlik wees om in hierdie mark oorbruggingskapitaal te kry. ’n Klein outjie soos ek is nie groot op
gatslae nie.” “Ag, Ben, jy het dalk nie die Statue of Liberty opgerig nie, maar so klein is jy darem nou ook nie,” troos hy. Bertha gaan sit skoon. “Weet jou mense al?” vra sy terwyl sy haar rok weer onder haar invou. “Ek en Jakob is mos saam in die ding, Ma. Hy het, flegmaties soos hy is, hom bleek geskrik oor dié jongste nuus. Mens weet mos half daar is fout, al wil jy dit nog nie weet nie. En hy is ’n man met ambisie.” Bertha vroetel net met haar sakdoek wat iewers vandaan moet gekom het. “Ai, man. Kan julle nog ’n rukkie met die kontrak aangaan, ou Ben?” “Nee, Pa. Ons projek is so te sê klaar, ons wag net vir ’n besending bitumen. Jakob het teen hierdie tyd seker al begin met die finale papierwerk.” Karen begin haar bene tot teen haar bors optrek, maar sy het vergeet van die steke en haar gesig vertrek. Bertha tas benoud na die kombers. “Ek is doodreg,” sê Karen moeg. “Pa moenie te bekommerd oor ons wees nie, want ...” “Nee wat, ek en Ma kan ook nog altyd inspring – as dit moet. Maar het julle nie netnou gesê ons moet eers voor die venster gaan saamspeel en dan sal die suster die baba hiernatoe bring nie?” Karen kyk met groot oë vir Ben, en dié skarrel orent: “Ma, Pa, kom ons gaan haal dan dadelik vir meneertjie.” Meneertjie. Gmf. Hierdie gepraat in die lug kan net beteken daar is ’n slang in die gras met die naamgeëry.
Hoofstuk 4
As haar pa haar nie in die rede geval het nie, sou Karen met die blye sak patats vorendag gekom het: Pa, Ma, raai wat! Ek het dit! Min het enigiemand geweet Ben se dinge gaan so gou tot ’n punt kom. Sy verswyg die nuus oor die wedstryd al drie weke om dit te bêre as ’n weerligafleier rondom die geboorte. Nou, ná al die jare, is sy dalk vir die heel eerste keer weer geneë om op ’n soort podium te staan. Dit is nou as mens dit mag vergelyk met die karnavalmars oor die luidsprekers van elke byeenkoms en die ritme van haar naam uit al daardie kele op die pawiljoen: “Ka-ren! Ka-ren! Ka-ren!” Sy proe die soet van ’n Rice Krispies-en-kondensmelk-horinkie en onthou die futiele afstof van die sherbetblerts voor op haar hardloophemp soos gister. Die atletiekseisoen was ’n geoefen sonder ophou, aan die koes verby die sproeiers en die benouende geluid van grassnyers lank voor die winter, so onvermoeid soos brommers teen ’n ruit. Hoe sou daardie jillende kinders geweet het van die ander reëlmaat tussen jou ribbes, die tromslag van vrees? Eers die vrees dat jy nie gaan wegkom nie, dat hande jou terughou, want jy hardloop nie met jou eie bene nie. En dan, agterna, die nuwe vrees, die een dat jy wel sal wegkom. Sy hoop haar nuwe prestasie sal, soos destyds, ’n skeut blydskap bring, al moes die vreugde altyd sober bly. En dat haar ouers hulle selfs daarin sal durf verkneukel, al het haar pa nog altyd sy mond vol oor haar beroep. Wie weet, dalk sal dit ook verander noudat hy afgetree en sowaar in die kombuis begin vroetel het. Of sal haar ma vrees dat die nuwe ding haar dogter se oog van die baba sal afhaal? Daardie ou verwyt wat sweerlik in al die stiltes opgesluit was? Sal sy ooit daaraan ontkom? Was haar pa se “En waarmee hou Dominique hom deesdae besig?” ’n gelade vraag? Die lawwe Dominique, haar varsitypel wat haar al ’n
keer of wat uit die grootste ontwerpdroogte help red het. Maar dit is darem nie te versmaai nie; sy en die ontwerpers Albany & Associates is die twee Suid-Afrikaanse inskrywings vir die Sun International Worldwide Hotel Interior Gold. Ná die instituut se oproep het Dominique in die harwar voor die baba se koms sommer uit sy eie vir haar oor al die reëls gaan uitvis en die katalogus met die voorskrifte gaan afhaal. Hy het selfs die proses vir ’n klein borgskap aan die gang gesit, want met die baba sal al haar ander werk stilstaan. Hy kan darem so lief wees as hy die dag wil. Die baba maak ’n slukgeluid. Sy buig oor en ruik aan sy nekkie – seep en poeier en baba. En sy ruik Ben aan hom. Sy druk haar neus teen sy donshare soos in die pels van ’n katjie, daardie sagtheid en ’n sweempie stof. Haar kind. Haar nuwe kind. Die baba sug diep, soos ’n oumensie. Sy leun terug en verkyk haar weer aan die pofferige duikies bokant sy vingers. Sy sal nie bang wees nie. “Bring hom net vir ’n rukkie vir my,” het sy die nagsuster gevra. “Slaap, Pikaninie. Pappie kom môre terug van die dam,” fluister sy. “Doedoe, my skapie, jou mama waak.” Uiteindelik. Soveel mure waarteen mens jou vasloop, dan swaai ’n deur tog oop. Ben is net so bly vir haar – al was sy benoud dat sy terugslag sy geesdrif sal demp. “Vir my bly dit fantasties,” het sy hom toevallig deur die kombuisvenster vir Dominique by die vuur hoor sê. “Dit is vir die Instituut vir Interieurontwerp ’n voorreg om aan te kondig …” Maar terselfdertyd volg die druk: “Dit sal ’n groot eer vir die land wees as enige van die twee inskrywings die paneel internasionale beoordelaars sodanig kan beïndruk dat dit die eerste prys vir Suid-Afrika inpalm.” Die bedryf se oë is op haar.
Dink net, die res van die inskrywings sal soos ’n Diner’s Club-advertensie klink: Londen, New York, Sydney. As mens darem, soos die borg geskimp het, ook almal se monde oor Afrika kan snoer.
“Versigtig, Karen-kind,” sê haar pa reg agter haar. Die steekpyn het in haar opgeskiet net toe sy wou oorbuig om die drabed van die sitplek af te lig. Haar ma staan klaar met die doekesak by die motor se oorkantste deur. Sy los die bed se handvatsels en skuifel uit die pad. “Laat ek jou help, Karen,” sê Ben. Dit is toenadering soek omdat hy by die hospitaal kwaai was oor die veiligheidsgordel. Hy het haar dit gemaak aansit oor hierdie seekoei van ’n lyf: “Jy is nou ’n ma.” “Ag nee, Ben,” het sy haar teëgesit. Die gordel het in elk geval saamgespeel. Sy het dit bly ruk en hoe meer sy geruk het, hoe minder wou dit afrol. Ben het, sy ongeduld in toom, oorgebuig, die knip uit haar hand gevat en dit stadig reguit getrek en ingeklik. Behalwe vir ’n paar klapgeluidjies van die baba en die verwarmer se gesuis was dit stil in die motor tot by die huis. Ben het die radio doodgedruk toe hulle inklim en “Hierdie verkeer” gemompel. “Jou ma-hulle wag al – en die mense by die kantoor.” Sy keel was al aan die toetrek van die werkspanning. Die tafereel by die huis kon sy haar ook voorstel; skielik is hulle vier “ander mense”. As kind het sy altyd daaroor gewonder. Saans nadat sy haar lig moes afsit, het sy nog lank uit haar kamervenster bly kyk na waar die liggies doer ver in ander mense se huise skyn. Watse mense woon daar? Wat maak hulle? Lag hulle, vul hulle blokkiesraaisels in en speel die kinders wegkruipertjie? Net so het sy gewonder wat sy en haar ma en pa alles sou gemaak het as Rouxtjie nie daar was nie.
Daarvan het sy iets ervaar wanneer sy eenmaal per jaar vir ’n week alleen plaas toe is. Soggens het sy gelê en wag vir die rubber van Rouxtjie se rolstoel op die houtvloere. En as dit nie gekom het nie, regtig nie gekom het nie, was die verligting en beklemming ewe groot. Maar later het Lenie, die ander plaaskinders en die dag haar gô so gery dat sy net partykeer onthou het hy is nie daar nie; dan was sy bly, en dan weer bang oor haar bly wees. Dit was dieselfde ontreddering as wanneer hy in die hospitaal was, soos die keer toe hy met sy mangels opgeneem is. Sy het alleen deur die leë huis gedrentel en hom oral byna gehoor. Die stilte was hard, so sonder die barokmusiek wat haar ma geglo het hom kalmeer. Die klavier se note was spelonkerig in hulle huis met die min matte. Sy wou speel tot haar vingers krampe kry, noudat sy skielik kon sonder Rouxtjie se hande wat hier om haar wil oorvat. Maar die getokkel het nie snaaks gebly nie, die troumars se eerste note tot by die volgende oktaaf en “Hansie Slim”. G’n skielike, onbehoorlike gelag nie, g’n skielike, ongemotiveerde gehuil nie. Net die doodse stilte. Niemand wat neul, neul, neul nie. Soos die maalkolk wat later gekom het: “Hans is in die huis nie meer.” Ben was douvoordag by die hospitaal, juis om spitstyd te mis, maar sy het gedraai; die oggendnaarheid was terug in haar keel. En selfs by ’n private hospitaal is die istrasie nie op rolskaatse nie. Tuis gekom, kon sy deur die Margoles-hek haar ma se dienlike dofpers teen die voordeur eien, en hoe haar vingers seker maak haar uitgaanpêrels se knippie is agter. Haar pa het met die een hand gister se verspotte haas omhoog gelig, sy ander hand was op die boelhond se kop. En om hulle, die dubbeldooie Hoëveldse winter. “’n Oulike waslapkonyntjie tussen die blomme!” het haar pa die pap die vorige dag aangemaak. “Ag moeder, Karen. En al hierdie somervrugte in die middel van die winter. Hou, aarde, hou!” Tot haar ma het lag gekry vir haar pa se hansworsstreke met die uitdra van die ruikers motor toe. Ben buig binnetoe en lig die baba met een hand van die agtersitplek af. “Pa?” hou hy die handvatsels uit. Die hond is al skoorvoetend om Ben se bene. Hy bly met sy snoet teen sy baas se hand aandruk. En hy maak tjankgeluidjies, want iets is nie pluis nie.
“Die video, Ben,” herinner sy hom. Haar man hardloop die huis binne. Haar ma stap agterna met die doekesak, verby die platane, hulle punttakke roerloos teen die bleek lug. Alles speel sowaar af soos voor ’n rolprentkamera se lui oog. Sy is terug by oom Dawie-hulle op die plaas, waar die gekier van die projektor die sussende ritme was, die metronoom wat almal se gelag rig. Die filmpunte het telkens “wrr” om die spoel geflap voor oom Dawie hulle met die oplaaislag gevang kon kry. Die filmpies het eers rooipienk strepe en kolle oor die wit van die sitkamermuur gelek. O, die afwagting van die lekkerte wat kom. Die oorbeligte film het gewys hoe kinders waatlemoen eet, en daarna het grootmense reggemaak vir ’n bootrit uit die kaai. Die kyker het seesiek saam oor boomtoppe en wingerde gewieg, en vir ’n oomblik het ’n hand om ’n tros gerus en ’n trouring in die oggendson geflits. ’n Bloedjong tannie Deluvia het immer uit die hospitaal gestap gekom. En elke keer het haar ouer weergawe in die halfdonker sitkamer langs die projektor regop geskuif en gesê: “Kyk, Lenie, daar is jy, onder die pienk kombersie.” En Lenie het gelag, en die suster met die stywe kappie op haar hare het ook gelag omdat sy in die fliek is. “Krr-krr.” En Lenie het gelag, en sy wat Karen is, het gelag, en almal het gelag, want Lenie is gebore en hulle kon dit sien, onder daardie pienk kombers. Sy glimlag. “En nou, is die kaal bome so mooi?” vra haar pa. “Alles sal regkom, Pa,” sê sy stil. “Ja. Ek en jou ma het gepraat, ons is darem vrek bly die geluk by Ben se ongeluk is dat hy ’n oog oor die baba sal kan help hou. Jy wil mos nie hê Ma moet agterbly en jou ’n bietjie help nie.” Eers dink sy sy het nie reg gehoor nie. Sy wil dit dink. Sy voel hoe die bloed in haar ore begin klop, hoe die suisgeluid van destyds se skare in haar ore ossilleer, hoe die woorde in en uit haar bewussynsveld dein. Die hoendervleis kruip oor haar vel onder die trui en iewers uit haar ingewande kom die sin: “Durf Ma my dan nooit weer vertrou nie, Pa?” So sag vra sy dit dat haar pa sy hand by die apparaat agter sy oor bak maak.
Net toe kom Ben en haar ma uit die huis, die kamera reeds aan die rol. Haar pa se gesig vertrek verskrik, haar ma frons vraend en Ben struikel half oor die hond. Sy gee nie om nie. Sy lig die baba saam met sy kombers uit die drabed en storm die huis binne so vinnig as wat die seer in haar onderlyf haar toelaat. Sy sal hulle wys, al is dit met hierdie kind op haar rug vasgegespe!
Hoofstuk 5
“Ja, man, dit gaan eersteklas met ma en baba, kan jy glo. Baie dankie, Dawie.” “Nou kan jy ook saampraat, Hendrik,” sê sy jonger broer. “Saam met ons ou manne met bulkalwers in die kraal. Deluvia sê ook beste wense.” Hy probeer die selfoon tussen sy oor en sy nek vasdruk, maar sit liewer eers die glas wyn op Karen se fênsie koffietafel neer. “Hendrik?” “Ekskuus, Dawie, met hierdie bleddie fone moet jy jou vat ken. Maar jou ‘ou bulle’ klink vir my of die jonges met die sterk horings ’n man gaan uitstoot.” “Ons Verhoefs het mos ons voorgeslagte reg gekies!” gooi sy broer wal. “Oupa Le Roux het dit net nie so lank gemaak nie, Dawie.” “Ha, ek moes kon gedink het jy sal so iets ophaal, Hendrik. Dit was voor die tyd van hartomleidings, moenie worrie nie. As julle terug is uit Gauteng moet ons ’n slag aan ’n ribbetjie en ’n rooie reg laat geskied.” “Dat die vrouens weer kan sê ons moet die vetjie afsny.” “Net so. Maar oupas sny nie meer vet af nie, en hulle eet botter. ’n Seningnek hoort net in die Kalahari, sê dit solank vir Bertha van my af,” lag Dawie. Daar is iets benouends, maar ook bevrydends aan dié saamlag, aan die besef dat daar ’n patriargale “ons” is waarvan ’n man bendelid durf wees. Hy mik om weer die koerant op te tel, maar los dit eerder. Tot die advertensies is al voos gelees. Snaaks, die ding om te behoort is iets wat hom onverhoeds op sy oudag van agter af op die skouer kom tik het. Ja, die familie was nog altyd belangrik, die
trots op die eie – die wyer net wat nie sonder sy strikke is nie, maar so maklik oopvou. Verbeel hy hom, of het die vreeslike ge-“ek” uit hulle jeug geskaaf tot by die gemoedelikheid van gedeelde herinnerings? Of dalk raak hy nou in sy later jare verspot oor springmielies op ’n koolstoof laat op ’n Sondagmiddag. Ouer word se weerloosheid het so ’n steelgang; om darem nou wragtig op ’n dag bewebeen uit ’n bad te moet klim. Daai gekrap in die keel oor stront; die tweede kyk na ’n kruppel kapokkie op einste Dawie se werf. Hy onthou die dringendheid so in sy laat veertigs dat die tyd van ’n verskil maak, begin uitloop. Maar toe kom die slag met Roux. Kyk net wat was die uiteinde van die onbesonne Deluvia se “Julle moet hom meer sy eie ding laat doen”. Wys jou net, die onderdorp was jy nie af nie, al kon sy skoonsuster by sy ma leer boerseep kook. Deluvia wat voorheen nie eens ’n werfsog van ’n spaarvark kon onderskei nie, was later strooplippies oor hoe sy en Dawie alles op die plaas moes “opbou”. Asof sy broer, in alle liefde gesê, wisselbou uitgedink het. Sy het net sy ma se beddings met haar “natuurlike tuin” opgedonner en skaamteloos met Landbank-geld ’n “ateljee” vir haar “keramiekwerk” opgerig. Misvormde voëls en onbruikbare bakke, leliker gevlek as basterbrakke. Asof sy van die finishing school op Zeerust af gekom het waar sy bleddie tafels geleer het. En by dit alles het sy die vermetelheid gehad om eendag vir Bertha, wat nie sou terugpraat nie, te sê Hendrik moenie by haar kom met een van sy alleensprake soos vir sy studente nie. Stank vir blerrie dank. Hy was op die ou end reg oor haar, al het sy ander skoonsuster en broer altyd olie op die water probeer gooi oor Dawie se vrou. Karen moet nou nie ook begin met sy bona fides nie – ’n man mag tog seker besorg wees oor jou mense? Sy dogter is oorstuur en poegaai ná die bevalling, dis wat. Rachel het juis ook gebel om geluk te sê. “’n Seun! Hendrik het weer ’n seun!” het sy ouer broer oor die nuus van die
nuwe baba uitgeroep, het sy skoonsuster vertel. Rachel se stem was lewensmoeg. Miskien raak die stryd te veel vir Johannes se wederhelf. Maar almal het tog ’n kruis wat hulle moet dra, verdomp, hoeveel jare het hulle dagin, daguit met Roux gesit. Hy en Bertha kon dit byna nie glo nie. Ma en seun perdfris en gesond, het Ben se SMS oor Karen en die baba gelui. Dit was al asof hulle vir die “maar” wag. “Maar vrou,” is hoe sy vader altyd sy moeder gespot het as dié op loop sit met ’n ding, sy dik snor aan die pluk aan die kuiltjiekant. Vir hom en Bertha het die humor iewers in die modaliteit van te veel voegwoorde verlore geraak. Die dokters het dit netjies uitgestippel: “Roux se asemhaling kan verbeter as hy genoeg oefening doen. Sy immuunstelsel is afhanklik van wat hy eet, maar dit is nie die enigste faktor nie. Wanneer die pasiënt begin reageer, kan die dosis verminder word.” As die kind ongesiens die boks koejawels beetkry, sal hy skyt, en dit sal slap wees. Dit is net so wel wat die dokters vir hulle kon gesê het. Hy en sy vrou was uitgelewer aan die wartaal van pilbiljette, hulle albei se chemieagtergrond ten spyt. Genugtig, kyk net hoe ongesiens het dit donker geword. Moet hy ’n lig aansit en die sybokhare voor die vensters toetrek? Maar hy is nou lui vir opstaan. Deesdae se sittery onder die prieel doen hom nie goed nie; mens ryg te veel derms uit as jy nie meer met die natuurwette stoei nie. Aftrede is ’n geneuk wat jou amper voor die kluitklap op die kis ’n eie begrafnisbrief in jou kop wil laat optrek. Netnou skryf iemand anders een van daai maple syrup-soort: Pappie was ’n Christen en ’n mens-mens en sou enigiets vir sy kinders doen. En tog so lief vir sy braaivleis en Lance James. Hel. Dit is al asof mens iets wil wys van die sand wat deur die tregter is. Nie eens Salomo met al sy sogenaamde verstand het geweet hoe doen mens die optelsom van wat ’n lewe is nie, bestekopname en al. Hy het vrugtebome en wingerde geplant en sangeresse gewerf vir sy hof ter beloning van al sy inspanning en toe tog gesê: Alles kom tot niks.
En hy, Hendrik Jakobus Verhoef? Wat sal op sy grafsteen staan? Sal hy ook nog moet gaan draai duskant Nebukadnesar se krulnaels en dieregegrom voor hy doodgaan of sal ’n groter gemeenskap hulle verknies oor ’n verlies teen die tyd dat hy lepel in die dak steek? Gaan iemand jou lyf in klip in ’n katedraal uitkap, jou naam op ’n glasvenster blaas of ter ere van jou ’n plaat oprig, soos vir Baron van Reede van Oudtshoorn daar in ’n weggooigang langs die Groote Kerk? De Hoog Edele Welgebore Gestrenge Heer … Gouverneur en Directeur van Cabo de Goede Hoop. Welgebore. Met die datums in Romeinse syfers: MDCCLXIII. Of sal jy naamloos bly soos die massa op slawefoto’s in die nuwe kamstige huldiginglosies op wynplase, ondanks die byskrifte in twee Europese tale, en dalk Japannees? Of darem, soos in die Hugenotebegraafplaas op Kleinbos, jou oorskot met jou voornaam vereer kry. Hier rus Klaas, slaaf van Du Toit. Net die voornaam, soos vir ’n beroemde in die koerant – of ’n kind. Hy hoor Ben se diesel onder stilhou. Die paneel met sy kode vir inkom by die hek wat al hulle pelle ook ken, is darem gerieflik, Karen se kartels en grille oor die paleislike ysterpoort en al. Met die tweede probeerslag kom hy regop uit die diep stoel. Hel, sal sy oupagrootjie se jonkmanskas ooit eendag in dié moderne sitkamer pas? dink hy toe hy rek om die ligskakelaar by te kom. Kyk net die kegelkoppe op die skildery. “Het jy dit oorleef, ou Ben?” vra hy toe sy skoonseun by die voordeur inloop. “Wag, ek skink vir jou ook een.” “Stadig, stadig, Pa, vir as ek vannag op pajamadril is.” “Lyk my jou vrou is alleen op enige soort dril.” Ben lig sy wenkbroue en dit laat Hendrik omkyk, maar hy sien darem nie vir Bertha nie. Sy en Sibongile sloof al heeldag in die kombuis. Ben vat ’n groot sluk wyn. “Hoe het dit vandag hier gegaan? Ek wil net gou eers vir Karen en die baba gaan hallo sê.” “Sy en die baba slaap albei, verstaan ek.”
Ben sak verlig in die bank weg. “Dit lyk asof ’n trein oor jou is, Ben.” “Ek het my werknemers maar vandag almal bymekaargeroep en die bom laat bars, Pa. Ek was bang hulle hoor dit elders.” “By jou vennoot?” “Nee, hemel, Jakob kan ek met my baba in ’n myn vertrou. Die Group Fiveouens kan iets laat val, en dan is dit neusie verby.” “Het jy alles uitgelap?” “Ek het vir hulle gesê die resessie se sweep het vir ons ook geklap, en die nuus gaan al hoe slegter raak voor dit beter raak, tensy ’n wonderwerk gebeur. Ek en Jakob het ons toe vanmiddag voor Excel neergeplak, en dinge lyk bepaald nie goed nie. Ek ... ek sal tien teen een die deure moet sluit, Pa.” “Jou skoonma se Vader van genade. Van watse soort bedrae praat ons?” “Nie kleingeld nie, Pa, ek kan nie gou iets uit my huislening onttrek en dan is die pyn oor nie.” Ben vat nog ’n sluk wyn en vee met die agterkant van sy hand oor sy voorkop asof hy agter die glas wil wegkruip. Hy sug. Sal Ben praat van ’n paar miljoen in die rooi? Sal hulle kan oorleef? “Jy weet, Ben, selfs by die universiteit, waar ek glo so ’n ghoeroe moes wees, het dinge nie altyd klopdisselboom geloop nie.” Ben knik net sy kop op en af; hy vat nie die aas van ’n geroei in dieselfde bootjie nie. Hy is nog te jonk en die nuus te rou. “Ma, kom sit,” nooi Ben toe hy Bertha gewaar. “Kan ek vir Ma iets ingooi?” “Nee dankie, Ben. Sibongile het tee gemaak voor sy huis toe is. Karen is dalk wakker, want ek hoor die baba.” Lank soos Ben is, skiet hy op so vinnig soos iemand wat bang is die paadjie raak vol duwweltjies.
Sy droom die baba huil toe Ben die deur oopstoot en sy wakker word. O nee, hy huil regtig. “Ek kan nie glo jou ma het hom gehoor nie, Karen,” sê Ben. “As jy my vra, kan sy ’n kind agter ’n toe deur hoor gaap. Ek wat deur ’n selfoon se gelui kan slaap, sal moet aanpas.” Sy sit die pen waarmee sy tussen haar vingers aan die slaap moes geraak het neer. Haar baba lê links van haar teen ’n muur kussings en half oor die oop geskiedenisboek. “Grote Griet, ek kan nie glo jy werk al nie, liefling.” Ben soen haar, vat die bottel met die jassie om langs haar onaangeraakte bord kos op die bedkassie en druk dit in die kind se mond. “Die melk kan al aan die koue kant wees, Ben.” Die baba draai sy koppie weg van die tiet, maar met die tweede probeerslag vat hy dit tog, en Ben glimlag moeg. Sy soen haar man op sy wang en vryf oor sy ken. “Jy het nie ’n lekker dag gehad nie.” “Nee. Die nuwe klerk het aan die tjank gegaan en dit vir almal nog aardiger gemaak.” “Ai, Ben.” “En jy?” “Ek dink ek moet my ma konfronteer, Ben. Ek wil nie hierdie kind met Rouxtjie se swaard oor my kop grootmaak totdat sy eendag haar kop neerlê nie. Haar onhoudbare min woorde al die jare.” “Jou ma het jou liewer as wat jy ooit wil glo, Karen. Sy is ’n introvert. Jou pa het vanoggend vir my gefluister hy het bloot gemeen sy – en hy – is bly ek kan nou meer tuis wees om jou te help. Jy moenie oorreageer nie. My ma het self gesê ons moet vir hom flenniefrokkies aantrek solank dit nog winter is. Dis wat
oumas doen.” Sy gooi haar kop agteroor om terug te kap, maar hy lig sy hand. “Karen, hier is op die oomblik genoeg drama in hierdie huis. Moenie dit wat kon gebly het verder opjaag nie. Ek weet jou broer se dood sit in julle almal se lyf, maar nou moet ek en jy dit net maak tot ek iets kry waarvan ons aan die lewe kan bly tot jy weer geld inkry. Kom ons fokus op ons kind en los die koeie in die sloot.” Sy ril. “Maar,” maak sy haar mond oop. “Karen, ek dink nie jy weet wat ek al vandag alles deur is nie. Kom ons bad liewers ons baba soos wat die kwaai suster ons gewys het.” Ben se stem is nie heeltemal syne nie. Sy wikkel die baba se kombersie stywer om hom. Sy wil teëstribbel, maar sy byt haar binnelip vas soos wat mens maak as jy grootgeword het in ’n huis waar stilbly dikwels die enigste antwoord was. “Die kwaai suster het op die ou end tot haar selnommer in my foon gesleutel ‘vir as jy my nodig kry’. Onder ‘Suster’ omdat ek seker vir haar te onnosel gelyk het om ‘Nel’ te kan onthou,” sê sy uiteindelik. Ben glimlag. “Sien, dis net daardie skets se skuld. Die ou dier raam dit dalk vir al wat jy weet.” “As sy smaak het,” plooi sy haar neus om te wys sy spot. Hy vat haar hand, druk dit teen sy lippe en knyp sy oë toe. Sy wil haar eers verbeel oor wat sy sien, maar toe sluk sy self. Onder sy wimpers blink ’n traan. En dit haar Namib-Ben, wat sy nog nooit sien huil het nie.
Hoofstuk 6
“Nee dankie vir tee, Karen, ek is nie ’n Pommie nie. Ek het vir jou sjampanje gebring om jou op te vrolik – jy was laas so stil. Jy het nie skielik begin borsvoed nie?” “Toe nie. Moet net nie vra oor die opdroogmedisyne nie. En dankie dat jy so kort ná die geboorte op sulke kort kennisgewing kom kuier het, Dominique.” “Ai, die oerinstinkte wat so in die wind geslaan word. En die kuier was heerlik. Jou pa is ’n tonic. En jy weet ek laaik jou ma.” “As julle eers lostrek, is julle is nogal ’n onhebbelike kombinasie, jy en my pa. Ek dink dit was goed vir Ben ook, die effense ontspanning ná sy rillerdag. Die ou vat die hele storie nie goed nie. Hy het tot eergister iets van emigreer gepraat, van weer in die buiteland werk soek.” “Sjoe, met bybietjie en al? Wie kan hom kwalik neem? Times are tough, ’n choreograafpel van my is nou al agt maande sonder ’n show. Het jou ma-hulle toe dadelik gery?” “Hulle sou mos net kom oë wys. Ek dink hulle sal seker langer bly vir die doop. En hulle wou nog by oom Johannes in Pretoria ’n draai maak, my pa se broer wat alzheimer het.” Sy gril vir die trane op die bottel wat hy op die kaal stinkhout aan die kant van die gekerfde tafel neersit, en lig die boeke om die modderdoek nader geskuif te kry. “O, ekskuus, Karen.” Hy vee eers die boom aan sy broek af. “Maar wat is die storie van hulle blyery in die gastehuis en nie hier nie? Jy sê my mos nooit niks nie.” Sy rol haar oë. “Dis sowaar my ma wat dit voorgestel het, Dominique. Sy het net gesê sy onthou die toesak van die familie op haar nek toe ek en my broer pap
babas was.” Toe Dominique begin vroetel met die silwer om die bottel se kop, staan sy op. “Tussen hakies, Dommie, het jy vir my die katalogus vir die wedstryd van die ontwerpinstituut af gebring?” Die drankkas se deur kraak met die oopmaak. “Kom-kom, nie so haastig nie. First things first. Ek moet konsentreer om nie jou baba wakker te maak nie.” Dominique trek sy oë op skrefies en hou die bottel van hom af weg. Maar met die uitspringslag klap die kurk net sag soos ’n tong. “Ag, kyk net die wit rook onder ’n towenaar se hande,” spog hy oor die wolkie wat saam met die prop ontsnap. En fluit toe sy twee tulpglase voor hom neersit. “Ek kan sien wie hierdie glase uitgesoek het! Is dit Bohemia?” Sy lag. Met “Oukei, die miljoendollarprojek vir fame en fortune, hier kom ons,” skink hy haar glas vol. “Op die exotic paradise wat kom.” Sy sit vir hom ’n drupmatjie op die tafeltjie by hom neer en vir haar ene op die breë stoelleuning. “Het jy nie gehoor wat ek laas gesê het nie, Dommie?” “Natuurlik het ek. Dis hoekom ek hier is, om jou mooi koppie vir jou reg aan te skroef.” “Dominique!” Hy lig die glas ongesteurd tot voor sy gesig: “Afrique, Afrique!” En slaan met die ander hand op sy bors. “Ontspan, man, ek probeer jou net kwaad of doodsbenoud kry, anders kry mens geen reaksie uit so ’n stoïsynse prinses nie, het ek ook al geleer.” “Ek wil nie hierdie projek halsoorkop benader nie, Dominique. Die laaste ding wat Afrika nodig het, is nog ’n karikatuur soos ’n Lost City.”
“Karen, weet jy wat die wêreld wil hê? Exotic. Dit is wat Afrika vir die Weste is, net soos Indië en Suid-Amerika. Masala en kaf in die kos, borduurwerk met silwerdraad in en gedrapeerde olifante. As jy deesdae ’n roman wil skryf, moet jy net ’n samoesaresep insit of magiese realisme met ’n pouveer op die voorblad uitblaker, dan kry jy sommer die Booker. Ons moet dink, ja, maar aan iets Shaka Zulu-rigs.” “Ag hemel, Dominique. Dit klink na barbare uit die bos met … met Ipi Tombiborste wat wild heen en weer swaai, en skilddanse.” Die babaradio maak ’n krapgeluid en hulle bly vir ’n oomblik stil, maar toe raak dit weer rustig. “Miskien is Sibongile en haar stowwer in sy kamer,” verduidelik sy. “Die arme vrou sal seker ook nog moet waai weens ons geldstories.” Dominique laat hom nie van stryk bring nie. “Ek sien voor my geestesoog ’n Mutapa, en goudstof en ingevoerde porselein. Glasspieëls, Venesiese krale, luiperdvel, sy en satyndamas, en die odd menslike offer.” “Jy put darem altyd vreeslike sadistiese plesier daaruit om my siel uit te trek, jou lawwe man. Jy onthou goed wat daardie hoofman alles met sy sussies gedoen het.” “Toe, toe, dis juis van te korrek wil wees dat jy so karring om ’n tema vir die projek te kry. Ek het laas op varsity so met jou gesukkel.” Hy glimlag beterweterig. “Dominique, jou gat. Ek wens die Lodge at the Ancient City was nog nie by Groot Zimbabwe gebou nie. Weet jy wat ek sou gegee het vir ’n paleis van klip wat so uit die heuwels groei? Dis presies wat ek nodig het: internasionale handel en ’n florerende Afrika-beskawing suid van die Sahara voor kolonialisme, saam met al die inisiasierituele en ’n spirituele koning.” Die laai onder die koffietafel haak eers vas, maar toe kry sy dit tog oop en haal ’n pakkie neute uit. “Jy is mos familie,” lig sy haar skouers toe sy sien dit is grondboontjies wat sy in die kleibakkie leegmaak. Dominique grinnik, hou sy kop agteroor en gooi ’n hand vol in sy kies. Hy stof sy hand af en tel die koffietafelboek skuins voor hom op terwyl hy eers klaar
kou. Die boek het Ethiopiese kruise op die voorblad wat nog mooier is as die drie grotes teen die spaarkamermuur. Daarmee beter sy gou ’n plan maak voor Ben as aanklag ’n ratel daaraan hang. “Hoekom suid van die Sahara, Karen? Wil jy wys die swartes het vir hulleself iets uitgedink, dit was nie die slim Moslems nie?” Hy tik op die omslag. “Man, dis ’n wonder jy het nog nie die Koningin van Skeba in jou kop gekry nie … En jy moet onthou, die Moslems het al in die sewende eeu hiernatoe gekom. Hulle is al langer Afrikane as julle whities wat skielik ná vyf honderd jaar daarop wil aanspraak maak met Madiba-hemde op paarties en die eerste reël van ’n Zoeloevolkslied in die mond. As jy ’n ‘beskawing’ soek, kyk na die Egiptenare, of die spul in die woestyn wat al daai boekies in Timboektoe volgeskryf het.” Sy leun so ver vorentoe dat sy amper haar vinger in sy gesig kan druk. “Wat, Dominique, is jou definisie van beskaafd wees?” Die duiwels dans in sy oë. “Homo habilis was amper daar. Vuur maak en yster smee vir messe maak! Die wiel ...? In die ou Kaap moes jy jou naam kon skryf voor jy kon stem. Soos onse mense wat uit Indonesië gekom het, kon doen,” sê hy so ingenome dat sy begin lag. Hy staan oudergewoonte op om die kleipotte en vierkantige glasbakke in die hoek van die kamer simmetries te rangskik. Sibongile is nie ’n perfeksionis nie. “So, Karentjie, vir die Bosjesman trek jy seker ook jou neus op?” vra hy oor sy skouer. “Sien, jy weier om weg te kom van ’n mentaliteit van knopkieries en stertrieme.” Sy sit haar leë glas hard neer. As sy nou vir hom sê sy wil uitbreek tot by ’n waarheid wat trots staan, sonder verskonings, kraak hy hom. “Dom, ek sal weet ek is reg as ek iets bevrydends het wat vir Afrikane self aanvaarbaar is.” “Ag hel. Was jy in Rhema? The truth will set you free! Of het die baba jou hormone deurmekaargekrap? Of daai melkmedisyne? Wat het geword van ’n paar weke terug se nog inskiklike Karen?” “Is ek ooit inskiklik?” vra sy verbaas.
“Ja, jy is nogal gewoonlik. Maar nou het iets jou opgestart, sien ek. Dis die laaste keer dat ek jou wyn voer – maar vat maar nog ’n sluk, wat.” Hy staan nader en hou sy hand uit vir haar glas. “Grappies op ’n stokkie, Karentjie, ek is amptelik hier en jy kan maar na my luister. Jy is simpel as jy dink een projek sal Livingstone se spore ongedaan maak. Go with the flow. Jy kan nou maar heul met ’n beesvel oor ’n blik as dit moet, maar whatever you do, bly net weg van ’n muur vol van die grillerige gapende gate van Afrikamaskers.” Hy wys met die bottel na die buffelkop van papier op die muur agter hom. Sy skud haar kop moedeloos. “Karen, ek dink ons moet die hele storie vir onsself baie makliker maak. Hoekom sukkel jy so om aan die gang te kom? Glo my, jy sal nie luilekkerland se donkieore kry as jy nie jou gat af probeer nie. Jy was dan altyd die een wat gesê het die lekkerste van hierdie goed is dat mens vir skeppende dinge nie wiskunde of aardrykskunde se eksakte punte kry nie. Ons wil net nie per ongeluk met ’n gegrou in die geskiedenis iets onoogliks oopkrap nie. Kom ons vat die kremetart as tema, want die natuur is neutraal. Die saad, die bas, daai soort teksture.” “Adansonia digitata,” sê sy met ’n dik stem. “Aitsa! Pa se kind?” Sy lig haar skouers meewarig. “Miskien Ma s’n.” “Ja, my ding, dis die antwoord. Die eenvoud waarop jy altyd so aanspraak maak. Dan kan ons te lekker pap eet met die opening.” “Ek sit nie my mond aan pap nie.” “O ja, die heilige Kapenaar,” skud hy sy bolyf. “Poetoepap, slappe pap, lekker, lekker mieliepap!” sing hy. “Ek is bly jy raak so meegevoer, Dom. Nee. Om eerlik te wees, is meer ingewikkeld as pap eet.” Hy lag. “O gaats, hier is Pappie se filosoof al weer los.” Dominique spring op, lig die linodruk van ’n Pierneefboom van sy hakie teen die
muur en hou die voorkant na haar toe uit: “As ons eers die basis het, kan ons dit optert soos jy wil.” Sy voorvinger rek en tik-tik op die glas oor die takke. “Ek kan vir jou al die boom se mites en legendes uitgrawe – meer as Wilma Stockenström wie se ‘gevoelige blomme … soos mane ontluik’ of wat sal ‘rus vind in die onderstebo’; take your pick.” Sy druk haar vingers in haar ore. “Sit terug my goed!” Maar botter kan nie in sy mond smelt nie. “Hoe lyk dit, help ek nie al klaar nie? Hoe weet ons wat Albany met hulle inskrywing gaan doen?” vra hy sag, want iewers op die boonste verdieping het Sibongile begin sing. Die huishulp se lae “thula-thula” sê die kleinding is pas wakker, maar Dominique se oë druk haar terug op die stoel toe sy wil opspring. “Dominique, my wedlope was op ’n manier nog altyd teen … teen … In elk geval nie teen die ooglopende mededinger nie. My aanvoeling sê vir my handel is die antwoord vir ’n hotel waarheen ek internasionale sakelui moet lok.” “Die slawehandel, Mammie!” “Dominique!” Hy staan op en haal sy motorsleutels uit sy baadjiesak. “Nee, Karen, ek sê weer, kyk met die stipsienige oë van ’n Westerling na wat lekker is oor Afrika as jy ’n tema kies. Ontwerp is die kommoditeit wat ek en jy verkoop. Dit beteken mooier en blinker, solank ons – ek gee toe – nie te veel bylieg nie. Ek het vir jou ’n deal waaroor jy vanaand op jou kopkussing met sy Egiptiese linne kan dink: Ek sal jou help met die projek sonder om iets te vat as jy nie wen nie, maar dertig persent van die prysgeld as jy wen.”
Hoofstuk 7
“Dag, my maat, gaan dit goed, Hendrik?” sê Jan. ’n Kollega wat so broederlik op ’n mens aanspraak maak, maak hom ná al die jare steeds benoud. Tot nou toe was Alfredo en sy fietsklokkie al wat van oor tot oor geglimlag het. Hartlik, asof hy gister by die universiteit weg is, nie ses maande al nie. Hulle is almal hier, dié wat jou nooit in die oë kon kyk nie en die junior dosente. Al aan wie hy seker nog iets het, is die gewillige Elsa, en arme Fred, so skadeloos Engels. En Gustav, wat alleen die dinge moet maak gebeur vandat hy weg is. Die Indiër-ou, sy plaasvervanger, se eerstejaars het prakties. Die nuwe departementshoof se “Hendrik” klink op die oog af gelykmatig, maar hy hoor sommer Neville se aarseling tussen die lettergrepe in die uitspraak van sy naam. Dit is seker nog die nadraai van daardie keer wat hy dié aap hel toe gestuur het toe hy met ’n veldtog vir “nog meer kommersiële navorsing” wou begin om regmerkies te verdien op pad na die troon. Wat wou die mamparra doen, ’n momentumgrafiek trek van hoe vinnig Coca-Cola teen die McDonald’sM se kurwes afloop? Die meneer wat aanmekaar met departementsgeld kongresse oorsee wou gaan bywoon en dan moet “ag man, Hendrik” die plek aan die gang hou en lesingreekse aanbied vir elke lyfwegsteker wat met langverlof gaan. Die res kerjakker lekker in Wes-Europa en dan moes hy die binneland platry om studente te werf. ’n Sabbatsjaar het hy nooit gesien nie, want hy het vakansies by sy eie navorsing uitgekom. En is hy nie bly hy het hierdie goed ook gesê voor hy weg is nie. Wie se voete het baie keer as die kinders saans bed toe is weer geskuifelsoek na ligskakelaars in die departement se gange? Nie die upstart Neville s’n nie. Hy sal al sy pensioengeld verwed die knopmaag is nog altyd vir hom bang,
heimlik seker skytbang die beste ou het nie die jop gekry nie. ’n Woord by dié en ’n laggie by daai en Neville se pel is boonop die adjunk – op grond van sy temerige onderdanigheid, nie meriete nie. In die werkplek moet jy mos net gretig kop knik vir die bokbaardjies se ingenious planne om die muurprop in die kombuis te skuif of net oranje lêers te begin gebruik. Wie het met sulke breine in die omtrek ’n ekstra dosent nodig wat by kwantummeganika kan instaan? “Hulle het jou bedonner,” het selfs Gustav, wat nie eens tussen mans lelik praat nie, gesê. “Ek is ’n bietjie vas,” is Neville se verskoning om nie te talm by die teetrollie nie. “Wat van nog ’n toebroodjie, Hendrik?” vra Elsa. Hy skud net sy kop; die kaas word dik in sy keel. En hy vat ’n seer sluk van die wit tee. “Is die stoep lekker breed, hè, Hendrik?” vra Gustav toe almal geloop het. “Man, wag tot jy my druiweblatjangresep sien.” Dit lyk of sy oudkollega nie weet of hy moet frons of lag nie: “Ek wens jy wil liewer daai hangmat hier tussen die bome voor die departement kom span dat ek die belhamels vir jou kan stuur, Hendrik.” “Die studente of die dosente?” Gustav proes van die lag, maar loer tog om die deur om te kyk of daar nie ’n klikbek in die gang staan nie. Hy maak groot oë. “Hoe gaan dit hier, Gustav?” kry hy uit, al weet hy skielik nie meer of hy wil weet nie. “Ek moet bieg Govender vaar nie sleg nie, my en jou voorbehoude ten spyt, Hendrik. Hy het ’n wiskundekop op sy lyf. Hy sal nie ’n doktorsgraad oor die ideale gaswet uit sy kop skryf nie, maar dan het Neville mos gesê hy ‘probeer nie om vir Hendrik regstreeks te vervang nie’.” Neville sal nie kan nie, die poephol. Dubbele doktoraal, cum laude. Drie en
veertig jaar ondervinding skop jy nie agter elke wingerdstok uit nie. Hy gaan hom nie laat afsit nie – hy het gekom met ’n doel – en sit af na die groot hoekkantoor. Sudoku’s invul by die huis maak mens telefoon oppas, en hulle kan mos nie ’n ou wat net wil help die rug toekeer nie. “Onthou jy die een van die drie omies in die park?” vra hy vir Neville se sekretaresse, en sy skater. Hy was altyd haar gunsteling, en sy waai hom sommer met die agterkant van haar hand deur na die departementshoof se kantoor. “Neville, hoe lyk dit, kan ek nie vir julle ’n werkswinkel of twee kom aanbied nie?” val hy met die deur in die huis. “Waaroor?” “Wel, tegnies is elke ou seker maar ’n spesialis in sy veld. Miskien ’n iets oor die manier van aanbieding; julle het mos altyd die hoed gelig vir hoe ek studente enduit in ’n lesing kon boei.” “Miskien was dit jou vak, Hendrik.” Die bliksem. “Óf dit óf die studente het, soos ek bly dreig het, gehoop ons gaan vir ’n bietjie kleur ’n slag kaliumpermanganaat in die dorp se spuitfonteine gooi,” probeer hy. Neville is te korrek; sy lip lig net half in die een hoek, wat ’n poging tot beleefdheid of ’n onderspeelde moer-my-uitdrukking kan wees. Eenmaal ’n drol ... “Wil jy vergoeding daarvoor hê?” Neville kon hom net so wel ’n snotklap gegee het, dink hy toe hy uit die gebou stap. “Ons sal jou bel, Hendrik.” Wie dink hy is hy? Hel, niemand sal hom glo nie. Hy het Bertha nooit met die werkpolitiek vermoei nie; die soort stront wat kan sneeubal soos ’n miskruier se bol in die wolkbreuk van ’n olifant se geskyt het sy nie by haar las tuis nodig gehad nie. Sy broer Dawie, te van die aarde, sal nie die serebrale dinamika van ’n klomp akademici begryp nie.
En sy broer Johannes? ’n Kerkraad moes ’n pyn in die gat gewees het voor hy Pretoria toe is, kweekskool toe: “Ons weet nie watter kleur ons die kleinhuisies moet verf nie, dominee.” Ai, met Johannes kan mens in elk geval nie meer ’n gesprek voer nie. Hulle moes vroeër oor al die ou goed gepraat het. Spyt kom te laat, en dit neem nie eens tydelik die wyk soos ’n vlieg as ’n ou dier kopskud nie. Die donnerse Neville. Dit is suiwer naganigheid op hom wat ’n tweedejaar kon interesseer in termodinamika en ’n M-student kon uitdaag. Hoeveel dosente kan miskien vuurmaak onder studente in die klas en daarby nie kennisgewys afsteek by oorsese fakulteite nie? Nee wragtig, dat hulle so ’n klaas wat altyd met ’n sinnetjie op ’n vergadering gereed gesit het, kon aanstel. Kan mense nie deur mense sien nie? Moet hulle wegkom met dieselfde stommiteite, oor en oor? Amerikaners kan al vir dekades ’n man op die maan kry, het hy nog net voor sy aftrede vir ’n klas gesê: “In die volgende vraestel sal jy die fisika van ’n ruimtevlug moet uiteensit, ek waarborg jou, maar selfs nadat jy al die projektielbewegings tot op die letter reg uitgewerk het, gaan jy steeds nie weet hoe om ’n fight met jou girlfriend te wen nie. En as jy wel wen, hoekom jy so verbrands skuldig voel daaroor nie.”
Hoofstuk 8
Om nou die kremetart te wil kies, al staan die boom die hele Afrika deur. Sy ken self al die deugde, die mik vang water op en die blare het meer vitamiene as ’n lemoen. En die mites, die Venda meen ’n mielieland gedy tot ’n ryk oes van ’n stuk bas in die sooie en in die Kariba glo hulle daar woon geeste in die takke. ’n Treksel van die bas maak jou weer ’n man, maar as jy ’n blom durf pluk, sal ’n leeu jou opvreet. ’n Vlermuis bestuif hom, en die sade, rond soos borste, is ’n simbool van vrugbaarheid. Dit alles kan baie nuttig wees, nes die gekreukelde bloeiwyses los en spierwit oor die lap van ’n stoelkussing of die karton van ’n spyskaart kan blom. Sy sug terwyl sy die plastiekhandskoene aantrek, maar die bababottels wil sy nie te lank laat staan nie. Gelukkig is die gesiggies op die kombuisvensterbank ’n pers skans tussen haar en die stuiptrekkings van die noordelike winter se vernielsug. Maar kan een boom se anekdotes ’n vasteland ontsluit? Al die drome en hoop en versugtinge van wat dit kan wees? Die vergete glorie? Is so ’n boom idioom genoeg om dekades se onderdrukking en die wanhoop van nou se boeie te breek? Beteken dit sy moet ophou droom oor die doeke uit Uganda, die Igbo-deure en die Kongo se rottangwerk? Die maskers uit Nigerië en Ghana, die Ivoorkus? Maskers moenie teen ’n muur hang nie. ’n Masker kom tot sy reg in ’n ritueel, wanneer die slaginstrumente die digkuns en die dans se ritme aanhits. Wanneer bolywe tril van lewenskrag en voete geesdrif uitstamp soos stof, as stemme laag soos vlamme lek of opskiet soos los vonke en kleintongetjies oproerig raak, dit is wanneer maskerdraers kopspeel soos jong kalwers. Die dubbel seker maak oor higiëne uit haar kinderjare is ’n gewoonte waarvan mens die wortels nie so maklik uitroei nie, en sy woel die bottelborsel nog ’n
keer op en af. Sy sal weer haar bes moet doen met die projek, meer as ooit op ’n atletiekbaan, want nou moet sy terselfdertyd haar baba abba. Wil sy te diep delf? Dominique is nog altyd die praktiese windkous wat haar ambisie temper. En hy is veelsydig. As hy net nie partykeer uit haastigheid sulke kortpaaie vat nie. Ben sal sê Dominique wurm hom al weer lekker in nes daar ’n meevaller na haar kant toe kom, maar dit sal help as sy nie die projek alleen hoef aan te pak nie. Sy kan haar nie draai met haar baba nie en voor sy weet, is 1 Junie volgende jaar, wat nou ver klink, op haar. Deeglik werk is haar sterk punt, nie vinnig werk nie. En sy wil by haar kind wees. Maar destyds in Tuks se biblioteek was Dominique die een wat te graag halfpad deur ’n groeptaak liewer buite op die gras wou gaan kuier. Tog, dit is hy wat haar geduldig uit daardie verlamming gered het toe die Interieur I-dosent haar taak oor operakostuums so opgehemel het dat sy vir ’n maand uit pure performance angst nie ’n potlood kon lig nie. Daaroor sal sy altyd vir hom ’n sagte plekkie hê. As hy net nie so oorneem nie, hoewel dit haar snaaks genoeg ook pas om nie altyd hoofmeisie te wees nie. Buitendien, om vir haar ’n borg te kon kry vir die projek het hy seker nogal flink te werk gegaan? Dit sal darem ’n groot verligting vir Ben wees as sy daarby kan goed vaar en só hulle langtermyninkomste ’n hupstoot gee. Hoor sy iets op die babaradio in die sitkamer? Sy spits haar ore. Maar nee, dit is stil, dit was seker die afvoerpyp se laaste sluk van die skottelgoedwater. By die toonbank agter die opwasbak trek sy die mandjie monsters wat sy die vorige aand laat staan het nader en haak haar skoene oor die kroegstoel se voetstuk. Die ondervloerse verhitting mag tot tyd en wyl net in die babakamer aan wees, het Ben gebied. Sy krap weer rond in die hoop dat iets in die mandjie met haar sal praat. Die sisal is grof op haar wang, maar sy soek verniet ’n Hoëveldse grasgeur tussen die vesels. Bronze Age se knoetserige kleiteël is glad geglasuur onder haar vingerpunte en die kralestrook om ’n Schweschwe-lap lê koud op haar palm. Sy
weeg ’n blokkie kiaat asof dit ’n dobbelsteen is en pas ’n leerbandjie se los tossels om haar pols. Na kleur kan sy nie eintlik begin kyk voor sy die tema het nie, tog waaier sy die kartonstroke oop: Climbing Ivy, Woven Willow, Silver Birch. Very Vanilla, Veggie Green, Western Wheat. En Liberty Linen is ’n naaswit waarin jy jou die tekstuur van sterk vesels kan verbeel. Hierdie projek is die kans waarvan mens ’n leeftyd lank droom, ’n kans wat nie sommer weer sal kom nie. Maar so opgewonde as wat sy daaroor is, so loer die moontlikheid van mislukking om elke vel van haar notas. Dominique vra hoekom sy so sukkel om aan die gang te kom. Hoe het sy nou weer die eerste keer geweet sy moet terugstaan? Het haar ma iets gesê of dalk eerder nie iets gesê nie? Dalk was dit oor Rouxtjie se “mooi” tandeborsel of oor die Josefskleed oor die ophysbed in sy kamer. Dit sou oor iets gewees het waarmee hy kon wen. Die vermaning was seker net vingers op haar arm, of ’n sagte “Karen”: “Hoekom lees jy nie vir julle ’n makliker storie nie?” Vir elke klein prestasie het hulle hom geprys, soos vir ’n tweejarige oor die skouspel van sy stoelgang in die pot: “Roux, dis ’n pragtige koekie wat jy uitgedruk het!” Die afsteek was wat sleg was, die pyn in haar ouers se afkyk. Mens se ontwikkeling moet agter dié van jou ouer boetie wees, nie voor hom nie. Moenie te haastig, te slim antwoord as iemand iets wil weet nie. Sit effens krommer, wees effens lomper. Snaaks genoeg het ’n ander stel reëls by die skool en op die atletiekbaan gegeld, sodat sy haar vryheid byna aan die radius vanaf Rouxtjie se rolstoel kon meet. Nogtans was dit asof sy weg van die huis af ook wou terughou en stof op enige glans smeer. Maar daar het ’n ander angstigheid in haar losgekom. So bang as wat sy vir presteer was, so bang was sy vir swak vaar. Wou sy opmaak vir hom, namens hulle almal? Sy het nougeset haar skoolwerk geleer. En die wegspringskoot was altyd ’n
versneller, haar bene kon nie terughou nie. Ook die verspring het weke en maande se geoefen geverg, die toewyding van ’n donkie aan ’n draaimeul. Dan was die arbeider sy loon waardig. Of, soos haar pa wat dit nooit kan nalaat om sy oupa se Latyn op te haal nie, die Romeinse soldaat sy salarium, sy kwota sout. Kyk hoe nederig bly sy, het die onderwysers vir die ander kinders gesê. “Nog so ’n mooi kind ook.” Is dit die koue wat haar laat ril? Sy is skoon verlig toe haar baba begin huil. Dit was nog ’n sin wat net verleentheid kon laat brand. Almal kon mos sien haar gewete moes in tandem met ’n rolstoel loop. Dat elke nuwe medalje, die blink waaroor Rouxtjie telkens so tot barstens toe opgewonde was, die verskil verdiep het. Wat dit in haar losgemaak het, was die seerkry vir hom, die jammerte – en partykeer ook die lelike, onhoudbare tweeling van skaamkwaad voel. Maar die ergste was dat sy nooit na hom toe kon opkyk nie, hy wat groter moes wees. Haar boeta was nie fris en groot nie. Hoe kan Dominique as enigste kind ooit kennis dra van die vrees vir uitblink?
“Nee, Karen! Ek sê nee. As jy nou vir jou ’n lat wil pluk, is dit die pad. Dis jou werk en jou vermoëns wat vir jou die benoeming in die sak gebring het, en nou wil Dominique weer voor in die koor sing.” Ben gee geïrriteerd vir haar ’n kussing aan waar sy met haar kop by die voetenent van die dubbelbed langs hulle baba lê. “Maar Ben, hoe sal ek anders tyd hê vir die baba ook? Jy is die een wat sê ons kan nie langer hulp in die huis bekostig nie.” Hy kyk moedeloos boontoe. “Ek gaan binnekort baie meer by die huis wees as wat ek wil, en dan gaan jy hom vir my kan oorgee en al jou energie aan die wedstryd bestee.” “Maar wat van die kreatiwiteit wat Dominique kan bydra? Ek sien op na sy kennis – en insig.”
Toe sy haar voete na haar man toe oorskuif, vat hy nie oudergewoonte een en begin by haar tone masseer nie. Sy krul haar stadig op en vryf oor die babalyfie. Hy is ’n klein verwarmer onder sy kombers. “Karen, jy werk die beste op jou eie. Jy wil my nooit glo nie, maar Dominique botter sy brood aan baie kante. ’n Skitterende plan is nog nie ’n klaargeboude Rome nie. Hy raak in die dinges op een plek en dan kruip hy weer by ’n ander gat in. Jou jack of all trades is weer uit ’n toneelstuk geskop of het uitgebak geraak by sy pel se restaurant of kon nog nie weer daai juwelier in ’n nuwe uitleg vir sy vensters inpraat nie. Nou sien hy die wedstryd as sy nuwe melkkoei.” Hy steek sy hand na sy wynglas uit asof hy dit wil vat, maar vou eerder sy arms. “Ben, jy is lelik, en jou aantygings lekker wild.” “Karen, hy het nie uit die liefde van sy hart vir jou begin voorspraak doen vir die borgskap nie.” Hy vat tog ’n sluk wyn asof hy wil moed skep. Dalk moes sy gewag het tot die glas leeg was. “Ben, is nie! Hoekom ontvang jy hom dan altyd so graag as jy sulke goed agter sy rug kwytraak?” “Hy is fantastiese geselskap, maar dit maak nog niemand fluks nie. Hy gaan weer die ding probeer kaap soos laas en dan sit jy met die gebakte pere. Dan was alles weer ’n groot grap, hy buig teatraal en jy vergewe hom as hy jou om die hals val. Hoeveel keer wil jy nog jou kop stamp?” Toe hy haar gesig sien, trek hy vinnig aan haar groottoon om sy woorde te versag. Sy sit eers haar vinger in die babahandjie voor sy hom antwoord. “En wat dink jy moet ek vir hom sê? ‘Nee, my man wil nie hê ek moet verder met jou sake doen nie. Jy is glo sy vriend, maar hy sê jy is eintlik ’n kroek.’” Ben druk sy vingers teen sy slape. “Karen, jy weet mens kan dit nie help om van Dominique te hou nie. Maar vir ’n kamstige afvlerk het hy baie latente energie
vir nader fladder elke keer as jy ’n groot projek kry.” “Kyk, ons baba se vingertjies is ’n bang songolôlo, Ben,” probeer sy. Hy bly frons. “Karen, ek sê jou, hy het al die klassieke eienskappe van ’n eendagskontrakteur. Jy het dit mos aan jou eie beursie gevoel toe hy so rojaal te kere gegaan het met die bestellings vir die bank se onthaalarea. Laat hy ’n slag sy eie heil uitwerk. Charity begins at home. Jy behoort dit beter as enigiemand te weet met jou ma se gevlug uit die huis na die sendingveld toe jy in die hoërskool was.” Ben aarsel asof hy nog iets wil sê, maar lig dan net sy skouers en swaai sy voete tot op die bed, pantoffels en al op die wit duvet. “Hierdie keer kan ek nie weer die kastaiings uit die vuur krap nie.” “Van ma’s gepraat, jy kan gerus by Dominique aansteek wat so getrou met sy ma is en my skoonma ’n slag bel. Jy speel die man, Ben. Jy …” Sy byt haar lip net betyds. As sy iets sê oor sy oordeel oor subkontrakteurs, doen sy dieselfde. “So jy sal die baba help versorg sonder om boe of ba te sê, en sonder om my weer daarvan te beskuldig dat ek te wyd na te veel opsies vir die projek soek?” Hy vee ingedagte deur die fyn druppels aan die buitekant van die glas op die bedkassie. “Bring jy net daardie wengeld in, Karen. Ons gaan dit baie nodiger hê as wat jy dink.”
Hoofstuk 9
“Hoe lyk dit daar in Pretoria, Hendrik?” Dawie buig weer vooroor in die kattebak, skuif ’n boks vaster en trek die plastiek verder onder die karkas uit. “So ja, nou sal die skaap nie op die deken afgee nie.” “Wel, ons broer het geweet wie ek is, maar Johannes het nie dadelik vir Bertha geken nie. Ek het van julle vertel, en hy het geglimlag, innemend soos altyd, maar min gesê. Dis so amper asof daar iewers nog ’n stukkie begrip kan wees dat hy dalk ’n verkeerde vraag kan vra en stilbly beter is. Toe ek van die nuwe kleinkind begin praat, het hy losgetrek oor ’n seuntjie met ’n rooi hemp wat in sy beursie kom krap het. Rachel het net haar kop liggies geskud toe ek vir haar kyk.” Dawie vat sy ken vas in die mik van sy regterhand se wysvinger en duim, en stut dié arm met die ander op sy maag. Hulle eet lekker hier op die plaas. “Hoe vat Rachel die ding, Hendrik?” “Ek weet nie, daar is so ’n gelate verslaenheid oor haar. Sy sê sy staan elke dag dapper op en probeer maar deur die dinge kom. Sy kan die hele middagete voorberei in die tyd wat dit ons broer neem om die tweede pion op die skaakbord te skuif – en dan is dit nie ’n meesterskuif nie.” Daardie man wat op sy dag vir Noord-Transvaal skaak gespeel het. Hoe kan hy vir sy broer vertel Rachel meen ’n nag sonder ’n vuil doek is ’n oorwinning? Van Johannes, ’n man wat kerkgeboue gevul en diep spore by sinodes getrap het. Hoe gewild was sy poëtiese preke op troues nie, en die manier waarop hy self die baba vasgehou het wanneer hy doop. Johannes, hulle ouma se gunsteling omdat hy vir predikant gaan leer het. En sy doktorsgraad op sewe en twintig, dit was darem vir jou ’n ding om stilletjies op jaloers te wees.
“Rachel sê, ironies genoeg, bid hy die tafelgebed en die ‘Onse Vader’ foutloos, en die goue oues soos Psalm 8 is nog in hom gegraveer.” Dawie staan woordeloos sy kop en skud en druk sy vuiste teen mekaar. “Lekker moddervet, nè!” sê Deluvia, haar kop om die garagedeur en haar oë op die skaap, maar sweerlik die wynbokse aan die tel. Eendag is eendag, dan gaan hy nog hierdie vrou aan die kalkoenlelle om haar strot gryp en wurg. “Dag, Deluvia.” “Ek is bly jy het weer ’n slag ’n skapie kom haal, Hendrik,” sê sy, die witvoetjie skielik voor. “Jy en Bertha hou julle skaars. En ekskuus, ek het vasgehaak by een van die werkmense wat ’n babatjie gekry het.” “Die buurvrou wou Bertha dringend sien. Ek is seker sy sou graag wou saamgekom het,” sê hy bot. “Vir wat is julle twee so ernstig?” frons sy. “Eintlik is ek op pad, Deluvia,” sê hy, en rinkel die motorsleutels aan die ring soos vir ’n kind. Hy sou wat wou gee vir nog ’n halfuur saam met sy broer. Vir vertoewe in sy heimat. Hy was reg, dit was goed om weer hierdie stof te ruik, weer bloekomblare tussen sy vingers stukkend te vryf en hom kleintyd se manna op die tong te verbeel. Om weer ’n keer die groen heuwels te sien voor die somer in al sy felheid kom. Maar nee, dankie, as hy moet koeitjies en kalfies met dié dierasie. “Ons moet by Rachel en Johannes uitkom,” sug Dawie. “Maar ons kom dan nie eens by Bertha-hulle nie,” neul Deluvia. As sy jonger was, het haar mond sweerlik gepruil. So suinig soos die hel vir bel en nou wil sy skielik eintlik kom kuier. Die motor vrek, so haastig is hy om weg te kom. Hy het altyd gedink sy broers kon hulle lewe lei soos hulle wou sonder die bande wat ’n gestremde kind meebring.
Al die jare, weet hy, was Dawie se hand swaar en simpatiek op sy skouer wanneer hulle groet, maar elke huis het seker sy kruis. “Dit is soos in ’n sepie,” het sy broer gekla, “’n mens se kinders regeer jou lewe. Was dit in ons tyd ook so?” Dit klink nie asof Lenie se huwelik dit gaan maak nie. Wat verwag mens ook van so ’n vinnige besigheid; die baba was binne agt maande daar. Glo vroeg. “Ons Scheeperse is haastige mense,” het Deluvia nog by die doop gelag. Mens sou sweer sy was trots daarop. Foeitog, die kind sit al vier jaar op dieselfde posvlak by Binnelandse Sake vas; hy het nog altyd gedink sy is ’n bietjie meer werd as daai blougrys stoele en metaaltafels. “My kleinkinders in Australië praat Engels,” het Dawie ook gekla. “Hugenote en Gereformeerdes wat nou staan en hande klap en Sankeys sing in die kerk.” Hy moes lag. “Dis wat hulle hier ook sing, man.” Die seer oor sy kind in Adelaide sit onder Dawie se skerpte, die dogter wat al op skool ’n pokkel was en op wie se troue Deluvia so wragtig probeer sing het. Het ook sy seun ’n aks te krom in Dawie se rug gaan sit? Daardie Piet-Jan is ’n deurbringer van geld wat elke keer weer self die ring en die gemeste kalf kom vra. Is dit die wordende geslagte waarvan die psalm praat? Voor hy by die plaashek uitdraai, sit hy nog eers ’n rukkie, maar hou die motor aan die luier ingeval iemand van agter af uit die stof opduik. Dawie was voor daardie oplewing in die wolbedryf ook nie so sterk op geldsake nie. Was dit weens die effense disleksie waarmee hy op skool gesukkel het? Hulle het sy broer bly help tot en met Roux se geboorte. En nou nog sal Deluvia sowaar ’n steek inkry as hy ’n skaap kom oplaai, en dit die aanteel van sy pa se kudde. Asof hy wat op ’n plaas grootgeword het nie weet die vleis van ’n lam wat te vet
is, word afgegradeer nie. Dit is ’n kriesel van ’n dividend op jare se rentelose kapitaal wat hy vir hulle geleen het, verdomp. Dit wil hy nog eendag vir haar in haar gesig sê om daai botter om haar selfvergenoegde mondhoeke af te vee, die jakkals wat self die vaatjie beetgehad het en agterna wil maak of ou Wolf daarin braai. Bid jou aan, uit ’n amptenaarsalaris, nie ’n ryk man se oorvloed nie. Wonder iemand ooit wat van Van Gogh sou geword het as sy broer nie vir hom verf bly koop het nie? Ma, Boetie het sy oor afgesny. Die ouers moes mos die ander kinders ook laat leer; Vincent moes darem op ’n stadium sy ry kry. As hy ook net ’n slag in die dominee se huis ’n skoon hemp wou dra. Was jou hande voor ete, my kind! Met terpentyn! Die sonneblomme se geel blertsverf moenie op my eetservies kom nie! Of erdeware, wie weet. Hy kyk in die truspieël en trek maar weg. Piet-Jan is nie al jongmens wat vandag op sy ouers se nek lê nie. Nou wil hy kammalielies help boer. ’n Lieplapper op die erfgrond. Nes hulle oom Samuel wat ná jare met sy uitgaanhoed en knypboudjies op die plaas aangekom het. En tog was hy die enigste mens vir wie sy ouma snaaks genoeg nooit ’n skewe woord gehad het nie. Toe wou Dawie-hulle wraggies daai keer toe Karen al op universiteit was weer geld leen, net toe hy en Bertha begin gelykbreek met die skuld wat hulle ter wille van Roux se gesondheid moes aangaan. Deluvia het seker gemeen dit was lank genoeg sedert die vorige weduwee-en-wese-kollekte. ’n Ouer wat nie klasgeld hoef te betaal nie, sal mos nie sukkel nie. Hulle hoef nie te geweet het Johannes het Karen op universiteit gehou, wou haar daar hou nie. Hy moet die motor wegruk voor ’n aankomende voertuig toe hy oorbuig om sy sonbril uit die oondjie te haal. Gits, ’n man kan skrik. Die tweede leningsbedrag het sy broer wel terugbetaal, dit moet hy hom ter ere na gee. Maar darem. “Nou is ons mooi square, nè?” het Deluvia ewe vroom gesê toe sy broer die laaste tjek uitskryf. Asof hulle ooit al die paaiemente van daardie eerste geld gesien het.
Wat gebeur dat trots, wat eers edel in ’n mens soos sy broer se are gevloei het, so maklik verword? Bloed. Dit is so ’n Van Wyk Louw-woord. Geskiedenisse word daarin geskryf en in oorloë is dit dié heroïek om daarvan te stort. Agnatus, agnata, agnatum – die manlike bloedverwant, volgens Oupa se Latynboek wat hy gewen het toe hy almal in die klas in die eksamen gewys het. Al die bliksems wat gelag het omdat sy gelapte broek in daai rugbywedstryd geskeur het. Nuwe broeke skeur dan vandag! ’n Ou taal, eens so nodig soos brood vir ’n klassieke opvoeding, en nou bly daar net rafels van oor. Hy ry liewer stadiger, want as die buurvrou eers begin cucumber sandwich en raad vra oor haar tuin, moet Bertha die hele Linnaeus tot by die monokotiele saam met haar deurdraf. En die bekende omgewing sus sy oë. Waarom het hy nou weer destyds uit die biologiese na die suiwer wetenskap toe gedros? Al in hulle eerste jaar kon hy sien Bertha blink uit in haar veld. Dalk was dit ’n faktor, die terugstaan uit ’n ander se lig. En as mens botanie en soölogie opgee, stap jy weg van genetika en Mendel se ertjietoetse. Het hy ’n voorbode gehad dat dié beginsels later te na aan die waarheid sou sny vir die objektiewe afstand wat akademiese toewyding verg? Hy het liewer na dieper kennis begin delf, tot by die kragte van atome. Meganika, optika en die wonderwêreld van magnetisme. En mettertyd het die dinamika van lug hom so meegevoer dat hy kon wegraak om net saans, tydelik, kop uit te steek. Briljante navorser, het die destydse departementshoof op daardie merietekaart geskryf. Toe was base nog ordentlik aanmekaargesit. Kyk net die mooi troppie skape wat doer voor ’n oper uitbondel. Mens kan sommer sien skeertyd is nie ver nie, die tyd van besige skêre en die reuk van die wolvet onder die voete van die baaltrappers. Aristoteles het gemeen die natuur probeer die pa kloon, maar faal in sy taak. As die man te vroeg getrou het, of die verkeerde seisoen vir voortplanting kies, sal seuns nie gebore word nie. Jy moes in die winter ophou jag en by jou vrou gaan lê om nie die ongeluk van ’n dogter of ’n misvormde seun oor te kom nie.
Hoe trots was hulle familie altyd op hulle herkoms. Bogemiddelde prestasies, selfs onder die voorsate wat nog nie kon gaan leer nie. Almal mooi manne, soos koning Dawid se broers. Enakskinders wat vir die ander hakskene gewys het op die atletiekveld. Leiers. Voorslae in die samelewing, en iewers was ’n senator. Al die jare was dit so. Agt miljoen gamete waarvan die erflike inligting verskil. Twee ouers, vier en sestig triljoen moontlikhede wat die babas se gene betref. Maar sy familie se blouselblou oë en die rooiheid van haar het weer en weer neerslag gevind, byna asof hulle resessiewe gene selfs Mendel kon troef. En toe kom die resusfaktor. Die plus in sy bloed is na sy kind se bloed, en dit was die lont vir die teenliggame in Bertha s’n. Só kon die gif van die geel pigment sy pletterpad met Roux se rooibloedselle loop. Onwillekeurig trommel hy op die stuur en kyk wrang na ’n padstal se bont vlae. Selfs ’n windpomp se sentiment het goedkoop geword. En hy dag hy het kom troos soek hier tussen die ou bome en landerye. Hy en Bertha moes uiteindelik wag vir die kruisverwantskap van resessief en resessief vir ’n welgeskape kind. Vir die wysgeer se meisieongeluk. En dit in hulle trotse geslag, die seuns van ’n gesaghebbende vader: een professor in Semitiese tale, een professor in die fisika en een druiweboer. En nou, in hulle gewaande kennis wat met die ouderdom saamloop, een wat aan alzheimersiekte ly. Die arme Johannes. Al daardie onbedaarlike gebede en Rachel se skoot het droog gebly.
Hoofstuk 10
Die klokkie lui net toe Karen ná haar gesprek met Dominique die foon onthuts neersit. Sy ignoreer dit, die meterlesers kom seker eers oor ’n week en dié tyd van die dag kan dit net ’n bedelaar wees. Haar seuntjie het in die drasak met sy koppie op haar bors weggedommel. Hy is darem so soet en lief, sy wimpers ’n platgedrukte waterverfkwas op die melkwit van sy vel. In sy slaap is die verfrommelde gesiggie van die hospitaal nou so glad soos marmer en sy nekkie slap soos ’n wilgerlat. Dit voel asof hy nie teen haar lê nie, maar in haar lyf. Die klokkie lui weer, met oortuiging. Is dit dalk ’n bode en nie ’n aanspraakmaker op ’n blik boeliebief nie? Sy hoor die hond in die agterplaas blaf, maar met net plaerige ywer. Ben moes vergeet het om vir hom oop te maak. Sy staan versigtig op, lig die voorhek se sleutel van die hakie en loop ondertoe. Die vrou se vel span ligbruin oor haar sleutelbene in die wye hartvorm van haar halslyn en goue oorbelle skommel tot teen haar nek. Haar oë is vasgenael op die baba, en dit gee Karen tyd om ook die geelgroen van die vlekpatrone op die glanssis in te neem, die kantwerk wat van onder oor die nousluitende bolyf kartel en daarna die kraag naloop. Die romp dy skaars van haar skraal lyf af uit, maar dieselfde kleur doek om haar kop se punte staan wild weg. Toe hulle oë mekaar ontmoet, lig die vrou haar ken ’n aks: “Is dit waar Ben bly?” “Ja?” “Ek het na hom toe gekom, uit Mali.” Karen frons. “Van Mali af?”
Die vrou antwoord haar nie. Is sy te statig om die stelling te herhaal? Sy trek net die grys tjalie om haar arms hoër oor haar rug. Nou eers merk Karen die taxidrywer wat skuins oorkant die pad bakhand ’n sigaret opsteek, sy skouers krom teen die lentebries. “Wat is jou naam?” Dalk lui dit ’n klokkie. “Oumu Touré. Ben het my ’n werk belowe. Ek sal wag tot hy kom. Ek dink hy is nou my enigste hoop.” Toe sy haar hande onseker om die baba vou, word hy wakker en begin dadelik huil.
Haar pa noem stensilwerk die geklad van Rorschach-ink, maar sy staan tog tevrede terug en kyk na die laaste treintjie bokant die muurlys. Die projek werk op haar senuwees, maar as Ben nog een keer iets sê oor ’n “binneontwerper se kind wat tot ’n eklektiese kamer gedoem is”, blaas sy soos ’n stout kind sy bergfiets se wiele af. Die verftegniek is darem ’n begin. En dit is goedkoop. In haar kinderjare het sy gedink as sy eendag ’n dogtertjie het, sal sy die musiekkissie wat sy by oupa Bert gekry het in dié se kamer sit. Die Bostik waarmee die poppie se bene teruggeplak is, was al geel, toe wou sy nog huil oor die dag toe Rouxtjie die sleutel probeer gryp het om die draaiorrelwysie op te wen. Sy sien weer die wit van die ballerinarok teen die rooi fluweel, voel die stywe gaas onder haar vingerpunte en hoor die klokdeuntjie soos ’n roomyskombi se soet keervers. Die growwe kant van die spons skrop die verf maklik van haar vingerpunte af. Buite die huis was dit makliker om vir Rouxtjie om te gee. Daar was dit hy en hulle teen die res, drie pare skouers teen die muur van vernedering. Óf mense het aan Rouxtjie gevat om te wys hoe dapper hulle is óf hulle het ’n winkel op die oorkantste sypaadjie ontdek waar hulle moes in. Met hom was daar nie ’n
tussenin nie. Sy wou hom wegkry van die honger oë wat weg wil draai, maar weer en weer terugkyk, soos na ’n ongelukstoneel. Asof die terugkyk sal terugspeel na die vorige beeld, die heel een. “Kyk sy blou ogies,” sou hulle sê, die afleitaktiek in die verkleiningsvorm. “Raak hy aggressief?” het ’n maatjie se ma eenmaal gevra. “As sy reptielspoeg nie op jou kom nie, kan hy jou dalk aanval,” het haar pa agterna gesê, “welcome to The Rouxtjie Horror Picture Show.” Nie eens die stekels aan die woorde kon sy seerkry verbloem nie. Sy kyk rond en sug. Hierdie Kersfeestafeldoek oor haar lessenaar sal vir eers as kaboutergroen moet deurgaan. Die naslaanboeke help ook nie ’n Tiny Totsatmosfeer aan nie. Maar die lampkap wat Dominique opgetower het uit lappe wat hy gehad het, trek darem amper al die kleure saam. Sy masjienstikwerk is nog altyd in ’n ander klas as hare. Dit het vanoggend langer as twee uur se gesukkel gevat om haar seuntjie aan die slaap te kry. Wat altyd met ’n baba verkeerd is, bly partykeer net so ’n misterie soos die lewe self, het Heleen haar gewaarsku. En gelag soos ’n sielkundige wat weet van. Hoe wens sy partykeer haar vriendin het nader gewoon. Ben is oral behalwe tuis en sy moet die vure doodslaan. Sy het al haar dae gehad om die Oumu-vrou wat glo uit Mali kom te oortuig om hom te bel, ’n afspraak te maak en terug te kom wanneer hy wel by die huis is. “’n Selfoon het meer mure as ’n moskee,” het die vrou gesê. “Dit is klein, maar dit is baie groot as jy daaragter wil wegkruip.” As Ben tog regtig begin baba oppas, wag daar darem ’n lekker verrassing op hom oor wat in die plek van ’n voltydse praktyk kom, lief soos hulle baba is. Weet hy hoe ’n geweeklaag deur murg en been kan sny? Ken hy daardie beskuldiging? Hy sê altyd al nonsens wat hulle as kinders gehad het, was sy pa s’n, en hy onthou merendeels die stories daaroor wat later agter die hand oorvertel is; hy was klein. Nie dat stilte nie vinger kan wys nie. Sy het al vergeet hoe geluidloosheid deur
jou lyf kan natril, hoe geen gebed of smeking of hulpgeroep weer ’n klankgreep wat jy net eenmaal weer moet hoor uit die vloere of die mure of, die hemele hoor haar, die dun lug kan pers nie. Hardloop was al redding toe die treurmoerbei se oorhang en die skuilplek onder haar bed nie meer vroeër se beskutting kon bied nie. Voorheen het sy van daar af haar ma se plat werkskoene of Rouxtjie se stukkie speke en bande dopgehou, of sommer net gelê en droom en wens. Daar kon sy alleen wees, daar was haar kryte hare, maar ook uit daardie kaal vloer het die eensaamheid opgeslaan en deur haar lyf getrek. Haar kind lê vir haar en kyk. “Is jou kamer nou amper mooi, liefding? En jou pappie is nog steeds by die dam. Hoe gaan jou mammie iets gedoen kry om almal ’n slag weer gelukkig te maak? Want jy maak poefdoeke vir die beker.” Vanaand wanneer Ben kom, moet hulle weer foto’s neem. Sy het pa en seun nog nie dié week voor die kamera vasgepen nie. Wat dink die mensie as hy so kyk; haal sy die paal? Sy bring haar wysvinger nader en vier vingertjies krul daarom. Hy trek haar vinger mond toe, en ’n heerlike berusting kom oor haar. Vertrou hy haar nog blindweg of kan hy al vrees ken? Wanneer word ’n liggaampie mens, verby tas en proe en spoeg? Die eerste ding wat mens uit jou kinderdae onthou, is gewoonlik iets ingrypends, het Heleen eendag gesê. “Hoe jy ’n ouer ontstel het, of ’n ontwrigting soos ’n trekkery.” Haar eerste herinnering is dat sy Rouxtjie sit en voer, pap of melkkos wat vreeslik mors. Sy onthou net die wit. Hy het ’n rooi trui met groot tuisgebreide steke aangehad en sy onthou die druppels op sy moue, want haar ma het hom eers gevoer en hy wou nie eet nie. Mense het altyd vir hulle ou klere gegee. Het die weldoeners gedink behoeftig en simpel loop saam? As dogtertjie het sy die lepel by haar ma gevat en haar ouer boetie begin voer. Hy was klei in haar hande, maar teenoor haar ma en pa het hy gewedywer vir
moeilik wees. Vir haar ma is die uiterstes afgemeet, altyd. Dit was byna asof hy hulle wou straf, wou teister vir sy anders wees. Sy sussie se goedkeuring moes hy tot elke prys wen. Sy het altyd gewens hy los hulle liewer uit, hulle wat so hard probeer, en probeer haar liewer vervreem. Die baba nies ’n dierbare klein nies. Kan dit van die reuk van die bietjie verf wees? Wanneer kom Ben? En sal hy nou tevrede wees? Sy het te veel tyd vir onthou. Het haar pa vir haar ma gesê wat sy gesê het oor Rouxtjie? Hoe kon hy in die eerste plek vir haar gesê het haar ma sê Ben kan help baba oppas! Haar pa was dan al die jare die pantser in hulle gesin, en selfs ná Rouxtjie se dood, toe die gedrup van haar ma se woorde mens al tot waansin kon dryf, soms die hofnar. Tog, haar ma was die een wat daardie eerste dag terug by die huis ewe besorg al om haar en die baba was, weliswaar op haar gewone versigtige afstand. Haar pa het agter die koerant gemor tot Ben gekom het. Maar nee, kyk haar pa se spottery daardie vorige dag oor hoe kitsch babatees is. Hy het gevra of so ’n partytjie weer is soos skoolmeisies wat saam kamerverlaat toe gaan. “En as dit is, stry julle nog steeds oor watter meisie in die klas die mooiste, langste hare het, want dit is die een wie se naam teenoor dié van die rugbykaptein op die kwakkie geskryf moet kom?” Nee, sy is verniet bekommerd. Haar pa is nog haar pa.
Hoofstuk 11
“Wat ek nie kan verstaan nie, Bertha, is hoekom de ongeluk jy na Mandiswa moet kyk. Is ons buurvrou te besig om vals naels op te sit om self haar filantropie te kan volhou?” “Die kind het hulp met biologie en Afrikaans nodig, Hendrik.” Sy vrou wurg die woorde uit, maar vandag sal dit hom nie traak nie. “Ek sê weer soos ek die ander dag gesê het, ek is bang ons kind kry ons nou nodig. Wie weet wat kan gebeur? Die baba – of Karen – kan iets oorkom en dan moet ons los wees om dadelik na hom te kan gaan kyk. Daardie kompetisie saam met ’n pap kleintjie is ’n sleg plan op sy beste. Ben kan sommer gou ’n nuwe projek kry.” Hy draai eers die bottel skuins om deur die groen verby die etiket te skat hoeveel nog oor is voor hy weer sy glas volmaak. Bertha bly eers lank stil. “Ek wil net my deel doen,” sug sy. “Jou deel, my vrou, was nog nooit net jou deel nie. Die hele wêreld staan en prop hulle kieste vol koek terwyl die predikant verjaar en jy was al die koppies. Toe het elke bergie in die Boland hom op ons sypaadjie knuppeldik gevreet en die waspapier net daar gelos. Om van later jare se basaars vir die townshipkinders nie te praat nie.” Al antwoord wat hy kry, is die geredekawel van die vink wie se nes uitmekaar gepluk word. Iewers tjank ’n hond. Om hulle is darem nog genoeg van die winter se mooi oor. In die Sederberg is die veld seker al vrolik. “Iemand moet help, Hendrik. ’n Martha moet bly dien.” Dit is asof sy teenkanting ’n kooltjie laat val het wat skelm ’n gat in die wolkombers brand. “Waar ek nie gehelp het nie, het ek dit agterna gehoor. Soos met my ma se siekte.” “Jou suster kon ook maar ’n slag haar klavierspeelhandjies vuilgemaak het,
Bertha. Met jou voor die wasbak in die kombuis en jou ma wat altyd so namens haar ingespring het, behoort sy die vooruitsig van ’n dag se eerlike werk te verwelkom en ’n slag ’n voorskoot oor haar blinkertjierok aangesit het. Gmf, altyd gedress asof sy enige oomblik met poedelhare en pomparms op Carnegie Hall se verhoog moes hol. Karen was ’n pap baba, daar was Roux. Onthou jy haar guitige ‘is daar iets wat ons vir jou kan doen?’? Met sulke vae sinne kan mens enige gewete was. Dan het iemand mos gesê, veiliger as neus insteek, maar met ’n wenakker vir gatomgooi. Só ’n vraag is verdomde Sanlam-versekering dat mens nie sal vra nie. Waarvoor mense katvoet loop, is die eerste graaf insteek wat die modderwal in die leivoor sal oopbreek.” Iets broei in Bertha. Hy kan dit sommer sien. “Ek wens ek het vir Karen aangebied om te bly, Pa.” O hel, nou moet hy so also soos ’n kalkoentjie trap. Hy vat-vat na sy sigarette en haal een uit die pakkie. “Jy weet hoe onafhanklik sy al kleintyd was,” is al wat hy uitkry. Hy fokus op die vlam en pluk die aansteker ’n ekstra keer. “Los dit liewer … Is jou koeldrank nog reg?” vra hy te haastig toe sy haar glas neersit. Sy oë volg die verwarrende takke van die prieel bokant hulle. “Miskien moet jy die meisietjie maar help. As ons skielik moet noorde toe, sal die bure mos verstaan.”
“Jakob, ek gee nie ’n flenter om dat jy Ben se beste vriend en vennoot of vir al wat ons weet die volgende president van Namibië se broer is nie. Waar is my man? Hoe kan hy ’n afspraak met die vrou maak en net nie opdaag nie? Sy het net die taxidrywer weggewuif asof sy Betjie van Brittanje is en weer daarop aangedring om te wag. Mens sou sweer sy glo my nie dat hy nie gekom het nie.” Karen skrik self vir hoe hard sy die ketel se deksel toeklap, en sit die drie koppies so sag in die pierings dat die fyn porselein op porselein skaars opklink. “Dank die hemel vir daardie Franse kanaal waarna sy intussen kan sit en kyk, en nou gaan Ben nog die DStv ook staak.” “Karen, ek sê jou mos, hy het gedink hy kan ná die laaste terreinvergadering met die Group Five-ou praat om te sien of iemand nie toevallig met ’n los projek vasgebrand het nie.” “Hy het elke dag ’n ander ding, Jakob. Ek hoor nou al hoe lank hoe hy ons baba se versorging op hom gaan neem. En ek weet ons het ’n liewe, soet kind, maar
ek kry skaars ’n vinger gelig vir my projek en nou sit ek nog met die Face of Africa in my sitkamer wat glo van Mali af kom, maar haar neus tot waar optrek vir my modderdoek en die Fulani-weefwerk wat julle saamgebring het.” “Jy raak darem baie bekkig as jy kwaad word.” “Vader, Jakob, moet jy nie nou ook nog begin nie. Ken jy haar?” “Nee, as haar aansprake waar is, moes Ben haar leer ken het die keer toe ek nie saam was nie. AngloGold Ashanti betaal kontrakteurs mos eers agterna en ons het net vir een vliegkaartjie kans gesien, want die goed is so vrek duur. Sal ek die ketel vir jou aansit?” “Ai tog, Jakob, julle maak my deurmekaar. Ja, asseblief.” Agter in die kas kry sy sowaar ’n pakkie amandelkoekies. “Is Ben so befoeterd en stil by die werk ook, Jakob? Ek wil verstaan, maar ’n baba tap baie van mens, en ek dink nie Ben begryp dit nie. Ek raak eensaam op my eie. As hy saans watter tyd hier kom, wag Krokodil en Eendjie klaar in die bad en staan al die bottels gesteriliseer en in gelid in die kombuis. En sodra hy ’n bietjie met die baba gespeel het, piekel hy met sy bergfiets spruit toe.” “In al die jare het ek Ben nog nooit só gesien nie, Karen. Jy weet hy is ’n trotse ou. En hy wil altyd almal gelukkig hou. Ek dink hy voel skuldig oor alles en oor elkeen van sy mense, veral teenoor my ook omdat ons albei se kapitaal en spaargeld daarmee heen is.” “Wat as Ben regtig vir die vrou werk aangebied het, Jakob? En vir wat? Dit sal my nie verbaas nie. Maar hier moet ek my vervreem van een van my beste pelle wat self nie werk het nie en my met die wedstryd wil help.” “Karen, ek weet niks nie. Jou man het my hiernatoe gestuur omdat hy sê jy is oorlaai genoeg, ek moet ’n plan maak en solank met Oumu kom gesels.” “Ek kan jou nou al sê Ben gaan nou weer my gewete vir my ry; hy weet hoe maklik dit met Karen Verhoef is.” Jakob kyk na die deur en leun nader. “Miskien moet ons ook nie vir so ’n graat koekies aanbied nie, want sy lyk sowaar asof sy net ’n model kan wees,” fluister hy.
Sy draai tot sy hom reguit in die oë kyk en pluk aan sy kraag. “Verander jy die onderwerp, meneer? Jou lojaliteit teenoor my man gaan nog jou ondergang wees, Jakob. Ek dink ek moet daai MBA-proffies laat weet hulle beter jou gal vir jou werk, want jy is nog ’n te groot softy. En vir jou inligting, opstoker, dis al ons tweede koppie vir die middag. Julle girlfriend uit Mali drink miskien nie melk nie, maar wel ’n berg suiker in haar tee.”
Hoofstuk 12
Die voorskoot is nogal so prakties soos wat Bertha gesê het. Dit is nes ’n oorpak, jy kan ná ’n jop daaraan sien hoe gekonfyt die verwer is. Sy ma kon daarsonder, en sy het op haar dag met net ’n bietjie salpeter by die wors, vir ’n mooier rooi, immer die VLU-beoordelaars kon ore aansit. Hendrik het reeds die broodkrummels en blatjang by die maalvleis ingewerk, en ’n spatsel tamatiepasta. As hy nou die koljander rooster, is die pan sommer warm vir die gaarmaak. So lank sal dit hom nie vat om die hamburgerfrikkadelle te rol en plat te druk nie. Hy soek op die rak tussen die speserye wat hy uit die Bo-Kaap saamgebring het en vat die fyn korrels raak. Daar staan dhania op die pakkie; dit klink soos ’n vroumensnaam. Is dit wragtig waar dat die Oosterlinge dié goed vir meer as vleisgeregte gebruik? En wat sou die “sagte rondings aan swaar geregte” en “anker van soet poedings deur die bitter saad” hier op die pakkie beteken? Dalk het die korrels sowaar meer geur as die gemors by Pick n Pay. Hy kan seker solank die pan aansit terwyl hy gou ’n glas water in die opwasbak langsaan tap. ’n Man raak gedehidreer as jy nie oppas nie. Die dooprok langs die wasmasjien verras hom. Hy staan nader, en onwillekeurig hoor hy weer die ou Easy, die twee balies aan die skommel teen mekaar. Die geswoesj was soos ’n soort mars. Bertha se week, was en ophang. Dagin, daguit. Roux was vier jaar in die doeke. Karen was nog amper voor hom gereed vir die potjie. Sy vrou het die dooprok vroeg van die plaas af laat kom, want sy het vele wasse in Woolite gevrees. Maar dit lyk of die niggies droogskoonmaker toe was; die wol is veel witter as wat die ouderdom bepaal. En Marguerite, of seker eerder Lenie, het die oorspronklike lint in ’n toebroodjiesakkie aan die borsstuk vasgesteek. Die bandjie is al witblou en die een been al meer fraiing as geweef. In dié rok is hy, sy broers, sy en Dawie se kinders en dié se kleinkinders gedoop. Hy druk sy neus in die hekelwerk wat eintlik vra vir vat, maar deins terug vir ’n
sweempie naftaleen. Ben se ma is prakties, sy sal nooit toelaat dat haar kinders se pa vernoem word nie, ’n suiplap en randeier. Hel, en die man se broers was omtrent almal boereverenigingvoorsitters. Sy skoonseun het seker in elk geval feitlik sonder ’n pa grootgeword. Hoe daardie vrou met vier seuns alleen op die plaas reggekom het, weet nugter. Buitendien kom sy glo eers in Maart kuier, “wanneer dinge op die plaas rustiger gaan”. Miskien wil sy ook tipies ma maar eers vir Ben kans gee om weer op sy voete te kom. Sal hy, Hendrik Jakobus, die baba indra, soos hy heimlik hoop? Of, as Karen vir hom vies is, sal hulle dalk vir Johannes, wat haar darem laat leer het, vernoem? Dat daar darem iets is om te wys. Sy moet mos verstaan dat kommer ’n katalisator kan wees en dat ’n reaksie selfs onder laboratoriumtoestande partymaal kan skeefloop. Hulle gaan doop ter wille van hulle ouers, en van die seremonie. Hulle sal foto’s neem, stapels, soos vir die troue, tot ’n mens skeelblind is van teen die son in kyk en skewebek van tande wys soos ’n dieretuinbobbejaan op ’n Saterdagmiddag. Dan draai iemand sy kop weg, dan is een se oë toe. Jy moet ’n godvrugtige lewe lei, sê die formulier. “Maak vir ons ogies, Roux,” het hy maar altyd gevra. Teen ’n gebed kon niemand iets sê nie. Die familie het in ’n kring om die vuur gestaan en die arme Karen het in haar pa se sy ingeboor. “Vir spy-y-ys en dra-a-ank sê ons U da-a-ank.” In ’n singstem, maar nie op enige wysie nie. Met Roux het die tannies elke keer ’n lastigheid in die oog ontdek, nie kloekend geglimlag vir die onskuld nie. Wollerige diertjies is dierbaar, nie groot seuns nie. Die eie kring is al waar jy kan hoop op aanvaarding, maar dit is ook ’n vrypas vir opinies onder die dekmantel van goed bedoelde raad: “Dalk is hy net effens stadig, jy weet.” Le Roux. ’n Van vir ’n naam wat geestesbeelde oproep van ’n oudste wat die grond sal kry.
Hoeveel makliker was dit toe hy nog klein was, popspeelgroot. Al wou hy nooit eet nie. Die kind met sy skouertjies waarom ’n arm kon konsertina. Die lelies van die veld en die voëls van die hemel. Maar wat gaan van hom word? Sodat die werke van God gesien kan word, sê Bertha se Bybel wat hy ter wille van haar saam met haar bly lees. Maar so wyd kry jy nie sommer gekyk nie. Is dit die uie wat sy oë so laat brand? Hy vee haastig met sy pols oor sy gesig. Daardie mes en die godverdomde vlegbrood het nie die rouproses begin nie, dit het dit net verseël. Hy ruik die koljander net toe dit te laat is. Die brandreuk slaan onmiskenbaar op uit die pan, en toe hy hom terughaas na die kombuis, dans die rook uit die korrels. Die onderstes is klaar pikswart verbrand.
Hoofstuk 13
“Ben, ek kan nie glo jy stel dit voor nie.” “Karen, wees nugter. Dis bloot ’n praktiese reëling.” Hy kyk nie eens op van sy naels wat hy op die opgemaakte bed sit en knip nie, die growwe kant van die sierkussings klaar plooie gesit. “Vandat ons Sibongile laat gaan het, het jy net my kantoordeur toegetrek. Als is toe onder die stof en hierdie huis kan doen met ’n behoorlike skoonmaak.” Hy moet haar oë op hom voel boor, want hy kyk op. “Karen, jy werk aan die projek en vroetel nog om ’n paar oues af te handel. Ek verstaan mos hoe ons kind tyd opslurp. Laat Oumu net die huis een maal per week kom skoonmaak, oor ’n naweek dan, as dit vir jou minder steurend is.” Sy buk om haar nagrok van die grond af op te tel en pof die kussing op Ben se leunstoel. “Jy gaan my nie nou intrek in ’n ‘madam is te besig vir skoonmaak’gesprek nie, Ben. Jy soek ’n verskoning om vir Oumu geld te gee terwyl die arme Sibongile moes strate toe. En ek is nie een van die onse in jou pond wat haar wou laat gaan nie. Ek en sy het mekaar verstaan, en ek gaan mal word sonder my privaatheid.” “Die buurvrou het Sibongile se dag by ons oorgevat, Karen. En ’n tydelike werker soos Oumu verg nie boonop pensioen, werkloosheidsversekering en medies nie. Ek wil haar net help dat sy kan oorleef tot sy iets kry. Enige maatskappy behoort iemand met haar profiel op te raap.” “In julle bedryf, nou? Ja, Ben, seker. Jy het skaars die geld om jou eie mense volgens die kommissie se reëls af te betaal. Ek werk soos ’n dwangarbeider in hierdie huis, maar ek mag nie vir Dominique betrek nie, en hier wil jy ’n wildvreemde onderhou! Watse houvas het sy op jou? En van wanneer af is jy, van alle mense, skielik ’n dissipel van arbeidsuitkontraktering?” “Daardie mense is desperaat. Hulle hoor goed wat jy nie sê nie.”
Vir ’n Namibiër bly Ben baie besig met sy naels. “Karen, is dit so erg om ’n buitestander ’n kans te wil gee? Jy kan jou indink dat so ’n individualis nie maklik onder alle Suid-Afrikaners se vel sal inkruip nie.” “Ben, jy het drie jaar terug in Mali vir haar gesê jy sal ’n oog oophou vir iets vir haar in Suid-Afrika. Intussen het sy by AngloGold hier ’n tweejaarkontrak gehad waarvoor enigeen sy oogtande sal gee. Hoekom het sy nie solank begin rondkyk toe haar sekondering einde se kant toe begin staan het nie? Verduidelik dít vir my.” Knip, knip, knip. “Ek weet nie, Karen. Sy het die hele tyd gedink Anglo sal haar wil behou, maar wie het hierdie resessie voorsien? Ek sal by my kennisse in die bedryf hoor of iemand haar nie kan uithelp nie. Jy weet die ekonomie brul.” Hy sien nie eens hoe sy haar hande in die lug gooi nie. “Ben, jou eie mense staan ook nog tou.” “Hulle is nie bourekenaars nie, Karen.” “Nou hoekom is sy nie terug Mali toe nie? Is Mandela se beloofde land te wonderlik?” Sy vou die sagte gordyne terug in die lus en kyk ondertoe, straat toe, waar die bome byna oornag blare gekry het. “Wel, Thabo Mbeki se Timboektoe-bouprojek het ons seker bekend en bemind in daardie land gemaak. Dis waar haar mense vandaan kom, as ek reg onthou. En ek dink amper een van haar ooms was juis ’n raadgewer van die Suid-Afrikaanse argitek wat die biblioteek vir die manuskripte ontwerp het. Maar afgestudeerdes in Mali kan nie werk kry nie, al sit hulle met Russiese grade. As hulle wel ’n regeringspos kry, kyk hulle vir kaal lessenaars en drink tee. Daarom tros hulle na die myne toe, in die hoop om buitelanders se aandag te trek.” “Hoe het dit dan gekom dat sy jou mynhuis skoongemaak het?” Ben kyk weg van haar frons. “Dis hoe radeloos baie van die vroue is. Ek het seker in ’n onbewaakte oomblik gesê ek sal eendag vir haar werk in Suid-Afrika soek en sy het die halm gegryp toe haar kontrak by Anglo verby is. Derduisende
gesinne in Mali is afhanklik van die inkomste wat expats vir hulle stuur …” Hy kyk moedeloos op van sy naels. “Karen, laat sy net die verbrande huis in toom kry voor ek en Jakob terugtrek hiernatoe. Die doop is nie ligjare ver nie, en jy kan doen met hulp. Dit is net prakties terwyl ek haar nou tog iets moet gee.” Ben gee uiteindelik die gepeuter met die knipper op en smyt dit langs die Classifieds neer. Sou hy daarin vir Oumu of vir homself werk soek? “Ben, jy wil nie weet hoe die gastetoilet gelyk het toe sy daar deur is nie. Daar was waterplasse die wêreld vol.” “Steek jy jou melodrama by Dominique aan, of beskuldig ek hom nou weer vals? Sit net vir haar ’n waterketel neer, dan kan sy die geriewe gebruik soos wat Moslems gewoond is.” Sy plak haar op die klavierstoel voor die laaikas neer en pluk die skrefie spieël wat onder die dun somerserpe uitsteek toe. “Ek het in ’n harde land grootgeword, Karen. Mense help mekaar sonder om iets terug te verwag. Dis maklik om met ’n klein opoffering ’n verskil te maak.” “Of maak jy nou vir jou skuldgevoelens oor Jakob op?” peul die beskuldiging uit, sonder dat sy wou. “Dis nou belaglik, Karen.” Ben se stemtoon is ’n waarskuwing. “Waar kom jy daaraan? Ons is vennote wat saam in ’n onderneming is. Hy is die ou met die doktorsgraad uit Duitsland wat nog steeds verder swot. Hy moet mý jammer kry!” Vir die eerste keer sedert die geboorte voel sy haar neus brand. Sy moet net kwaad bly, dat sy nie begin tjank nie. “Ben, ek het ’n baba, ek was, ek stryk en maak kos. Nou kom wys jy vinger na tandepastaspatsels op ’n spieël. Dis dêm onregverdig.” Asof hy weet daar word van hom gepraat, begin die einste in stereo huil. Sy stemmetjie uit die kamer langsaan eggo die geween oor die babaradio op haar bedkassie. Ben dra-skop die snippermandjie tot min of meer op sy plek en druk ’n kussing inmekaar.
“Help vir Oumu, Karen, dat sy jou kan help.” “Help ons nie ons eie mense eerste nie? Jy is die een wat hamer op waar charity begin. Het ’n vrou met ’n BSc nie ’n beter kans om werk te kry as ’n man uit ’n skeppende agtergrond nie?” Die radeloosheid druk al haar keel toe. “Sê jy ’n slag vir my, hoekom staan kuns altyd bakhand vir liefdadigheid, Karen? So ’n ou kan enige plek regkom, man. Oumu kan net ’n professionele pos aanvaar. Nuwe infrastruktuur help minstens werkskepping aan.” “Ben, sing jy nou my pa se deuntjie? En waaroor baklei ons nou eintlik? Ek waarsku jou, jy gaan my nog te ver dryf.” Maar sy praat met sy rug wat na hulle kind toe op pad is.
Hoofstuk 14
Toe die foon in die nanag lui, gryp Hendrik dit deur die slaap, druk sy tande met die ander hand in en antwoord tussen die spoeg van die Steradent deur: “Verhoef.” Bertha se hand sluit om haar keel bo haar nagkabaai. “Wanneer? “Weet julle hoeveel tyd verloop het? “Is daar skade? “Wanneer sal julle weet? “Is hy versorg?” Toe hy die foon neersit, draai hy na Bertha toe. Hy wil eers die tande gaan uitspoel, want sy oë traan, maar toe besef hy sy kan dink dit is die kind. “Rachel het ’n beroerte gehad, Ma.” Hy druk sy sakdoek teen sy lippe en klad sy tong. “Hulle het Johannes by haar gekry met ’n koue lappie wat hy teen haar voorkop gehou het. ‘Toemaar, toemaar,’ het hy gesit en prewel.” Sy vat net sy hand. Sy ongemak en skok kaats terug uit haar oë. “Hulle weet nie hoe lank Rachel so gelê het voor hulp opgedaag het nie. So gou en sonder toetse het hulle nie ’n benul wat die kans op herstel sal wees nie.” “Ons kan net bid, Hendrik.” Hy kyk af. Toe draai hy tog sy gesig weg, glip sy tande uit en haas hom badkamer toe. Johannes gaan uitgelewer wees sonder Rachel.
Hoe ver voel die droom van kinders wees en op hulle rûe in die sementdam dryf. Al d’ eksamens is nou klaar, joegaidie, joegaida! Gaudeamus igitur, iuvenes dum sumus, laat ons dan vrolik wees solank ons nog jonk is. Hy draai die kraan te groot oop, en spat sy pajamabroek sopnat. Johannes het met die spieël gepraat toe hy hom laas besoek het. Dit is waar hy hom gekry het toe hy te lank uit die sitkamer weggebly het. “My man is seker in die badkamer,” het Rachel gesê, haar gesig onthutsend kalm. Hy probeer met die handdoek die ergste nattigheid klad. En hy het altyd geglo dit moet dié verlossing wees om te kan ophou dink. Dan is daar nie meer strewes wat deur teleurstelling weggekalwe kan word nie, die ondermynende wedloop van ’n gejaag na kennis, na die futiele verstaan van ’n lewe. Na daardie immer ontwykende paradysboom. As jy van jouself kan vergeet, kan ander ook maar van jou vergeet. Johannes het ’n gesprek gevoer met die man in die weerkaatsing voor hom, en dié het telkens teruggepraat. “Ja, meneer.” Nou kan sy, sy rots en pilaar, nie meer praat nie. Sy ou skaakmaat wat fyner as hulle moeder kon borduur. Het sy opgeraak? Is dit die liggaam wat sê tot hiertoe en nie verder nie, ek kan nie meer nie? Hy prop die handdoek lomp terug op die reling. Tot waar kan die ouderdom mens aftakel? “Sans hair, sans teeth.” Sy denke is weg, en hare is vas. In die kamer het Bertha reeds haar bril opgesit. “Ons sal seker vroeër moet opry vir die doop as wat ons gedink het, Ma, en langer bly.” Sy tel haar notaboekie op.
Bertha was altyd die praktiese een. Vir elke uitstappie was daar ’n lys: ’n doek vir ’n glips, ’n nat lap, ’n droë lap, medisyne vir ingeval en skoon klere in ’n sak. Daar was altyd die kans dat hulle ’n atletiekbyeenkoms kon misloop of dat kafee toe ry rampspoedig kon eindig. Miskien is dit steeds vasgemessel in die struktuur van hulle gesin: Uitsien en verwagting is veiliger emosies as mens dit tem. “Pa, Pa, raai wat!” het Ben oorstelp met die nuus oor die swangerskap gebel, maar hy moes die gehoorbuis doof en asem intrek voor hy woorde had. Toe het hy met Karen gepraat. “Ja, Pappa, dit kan goeie nuus wees.” Weer klein, en weer sy dogtertjie. En ook in haar stem die versigtigheid van moontlikhede. “Die kind kan dit nie help nie.” Dit moes jy oor en oor vir jouself sê as die plaat van eindelose eise vasgehaak het. Die geduld vir Roux se halsstarrige driewoordsinne op die onmoontlikste tye. “Ek wil nie.” “Ek kan nie.” “Ek sal nie.” Eet, oorkook en stoelgang, sonder respek vir Bertha se moedige roetine. Die kwantummeganika sê daar is ’n inherente onvoorspelbaarheid in die natuur. Hel, hy sou vir Heisenberg ’n paar dinge daaroor kon leer. “Ek sal gou gaan kyk hoeveel gaar vleis daar in die vrieskas is,” sê Bertha terwyl sy haar kamerjas oor haar skouers gooi en haar voete in haar pantoffels wurm. “En ek sal moet tyd maak vir ’n ekstra les of twee vir Mandiswa. Sy kom so mooi reg.” Hy staan op om saam met haar te loop en die ketel te gaan aansit. As die doop net goed kan afloop. Wie weet, as die voorgeslagte in die seuntjie se naam bevestig word, sal hy dalk ’n soort aanspraak op hom kan hê, ’n nuwe eie, ’n nuwe vorentoe. Tot nou toe, klink dit, kom Karen darem min of meer reg met die baba. Sy konsentreer daarop.
Hoofstuk 15
Die dokters se ontvangslokaal het baie groen plante, en fleur-de-lis-plakpapier, al het nie een van die vennote ’n Franse van nie. Enigeen kan mos deesdae op binneontwerp aanspraak maak, al het hulle nog nooit van die Weense Sesessie of De Stijl gehoor nie, of al ken hulle nie Yves Klein-blou of weet hulle nie watter grootsheid agter die klein waarmerk onderaan die silwer sit nie. Karen wonder of haar raaiskoot oor die pediater reg is. Daardie naam was net te opvallend op die lys dokters uit die telefoongids en die nuuskierigheid uit haar vroeë tienertyd het die inkpatrone om sy voorletters al hoe groter laat kring. Teen die muur hang sketse van strelitzias. Dit pas nie. Tog voel sy die ou gerusstelling van ’n wagkamer oor haar kom. Met Rouxtjie was ’n dokter altyd die depper op haar ouers se angsvalligheid. Wel, tot voor daardie laaste keer. Haar Ben wat daar tussen die duine uit kom het sowaar vir haar blomme gebring: lelies waarvan die krone sag op die stingels terugval. Hy het ver gevorder sedert daardie angelier voor die koshuisdans. Sy wil hom amper sy ongeërgde skouers van die afgelope tyd vergewe, en die afwesige kyke, behalwe as hy hulle kind optel. As hy net nie so die wêreld wil red nie. G’n wonder haar man en haar ma kom so goed oor die weg nie. Haar ma moet hom ’n bietjie sê wie in haar hoërskooljare brood vir boemelaars help smeer het tot dit by haar ore uitgekom het. Die ontvangsdame knik nors dat sy kan deurgaan. Is daar iets verkeerd? “Karen, of liewer, ’n paranoïese ma, dokter,” is waarmee sy die hand uithou, en afkyk. Hy is toe blond.
“Michael,” lag hy. “Hoekom dink jy so?” Hy vat die drasak by haar. “My baba se neus is toe, toe kom ek maar gouer as wat die klinieksuster die roetinebesoek aanbeveel het. My broer was baie sieklik,” sê sy flou. “Kom sit,” sê sy hand ook, en hy gaan sit langs haar, nie oorkant die lessenaar nie. Sy weet nie wanneer laas sy so ’n paar blou oë gesien het nie. Dit moet hy wees. “Is jy familie van dokter Buizer wat in die Kaap gepraktiseer het?” vra sy toe hy vraend glimlag. “My pa!” roep hy bly. “Ken jy hom?” “Hy is al dokter wat ooit sy hand op my kop gesit het by al die dosyne waarby my ouers met my broer was.” “Kan jy nou meer, hy het pas afgetree in die Kaap. En dit is omtrent wat ek gewoonlik die meeste van my pa mis, daardie klop op ’n mens se skouer. Wat het jou broer makeer?” “My ma was resusnegatief en my pa resuspositief. Hulle eerste baba is weens komplikasies tydens die geboorte dood, en die ou dokter het so groot geskrik dat niemand daaraan gedink het om my ma of die baba se bloed vir die resusfaktor te toets nie. Vir al wat ons weet, het hulle destyds op ’n gehuggie soos Alice ook nog nie kennis gedra van die Rougam-inspuiting wat so ’n ma ná die geboorte van haar eerste kind moet kry nie. En toe my broer tien maande later om middernag in ’n onderbemande kliniek in Beaufort gebore word, het hy breinskade gekry. Die stadige bloedoortapping was nie betyds en genoeg om voldoende suurstof te verseker nie.” Michael vryf oor sy voorkop. “En jy het toe die resessiewe gene, of die inspuiting het sy werk gedoen.” Sy knik net, want daar krap ’n weerloosheid in haar keel. Sy moet net nie nou begin huil nie. Is dit haar hormone, soos Dominique sê? Of die min slaap? Hy vat liggies aan haar hand. “Gestremdheid is die een aspek van my praktyk wat my laat klippe kou. En terloops, Karen, ek glo nie daar is iets soos ’n paranoïese ma nie. Soms kan ’n klein voorkomingsmaatreël en betydse optrede
jou baie pyn spaar. En hartseer.” Sy voel hoe haar keel heeltemal toetrek. Liewer Ben se bedompige moedeloosheid, net nie hierdie sagte medelye nie. Hy buig oor die drasak en vat aan haar seuntjie se wang, dalk om haar kans te gee om te sluk. “Onthou jy dat jy eenmaal vir my geskryf het?” vra sy om die onderwerp te verander, haar stem te dun. “Geskryf? Nee.” “Ek het na ’n gesinsfoto op jou pa se tafel gestaan en kyk en toe het hy gevra of ek jou penmaat sal wees, want ons is amper ewe oud, en jy is baie lui vir skryf.” “O, seker ná sy en my ma se egskeiding. Hoe oud sou ek gewees het, tien, elf?” “Ek was twaalf, maar jy het net twee keer teruggeskryf,” glimlag sy. “Sowaar. En toe beland jy ook hier bo uit die Kaap.” “Ek kon net by Tuks Kleding en Interieur swot … Jy wil nie weet hoe ek gesoek het na die perfek ontwerpte stootwaentjie nie. As mens ’n snars van ergonomie weet, maak dit jou gevaarlik.” Is dit sy oë wat haar so vaspen wat die laaste tyd se opgehokte praat van skone senuwees alles saam laat uitborrel? “In daai geval, ekskuus vir Bambi en die res van die Disney-familie teen die mure, maar gevaarlik kan ek hanteer,” lag hy. “Maar vir ’n seuntjie bly sy ma se bors die lekkerste rugleuning, glo my.” Sy glimlag talm. “Het jy ’n seun, of kinders?” vra sy onseker. “Ek … nee, ek is aan die skei.” Hy kyk weg, hou sy hand uit vir die vorm wat sy ingevul het en maak ’n paar merkies. “Kom ek kyk gou na die mannetjie.” Hy tel die babasak op en hou sy hand onder haar elmboog tot by die bed. Vir iemand wat nog sukkel om knope vas te kry ná ’n bevalling kan dit nogal vleiend wees.
Toe hy die stetoskoop in sy ore druk, trek haar maag saam en die spiere in haar nek span, maar ná elke oplig van ’n arm of klop op ’n knietjie glimlag hy eers bemoedigend vir haar. Met die naelstring knipoog hy. Sy hande is seker, maar vat lig oor die baba. Sy asem stadig uit. Dit lyk darem nie of sy die pad te ver byster is nie. Met die vrae oor voeding knik hy gerusstellend ná elke antwoord. Maar dit is asof sy oë so oor haar bly gly dat sy dit moet opmerk. Of verbeel sy haar? Naderhand kyk sy liewer na die modelle van die perfek simmetriese skedel en ’n oorskulp so reg uit ’n biologieklas wat ’n medisynerep seker op sy tafel staangemaak het. “Wel, behalwe vir die toe neusie lyk jou baba vir my blakend gesond. Slaap jy genoeg, Karen?” “Gits, ek is oud en lelik genoeg ...” “Hokaai, nie oud nie en allermins lelik. En is daar iemand wat na jou kyk?” Sy kan sweer hy maak vir haar ogies. Die ontvangsdame se kop om die deur en die afspraakboek teen haar bors knip die besoek kort. “Suster, u kan vir nuwe pasiënte ook maar eers klop,” sê hy onnodig skerp. Maar met Karen is hy weer die vriendelikheid self: “Kom maak weer ’n draai. Dit is die een plek dié waar jy nie hoef terug te hou nie. Moenie eens bekommerd raak nie. Dan kan jy vir jou vriendinne sê hierdie dokter pas mens mooi op.” “Ek sal na my vriendinne toe moet e-pos, Kanada, Engeland en Nieu-Seeland toe, Michael.” In die hysbak leun sy eers terug teen die muur. Michael het geweet sy is broos, dit is hoekom hy vriendelik was. Hy onthou niks, hoe sal hy ook? Die keer toe Rouxtjie se nuwe medisyne nie gewerk het nie is hulle in die skoolvakansie na dokter Buizer se huis in Kaapstad toe. Hulle het gesoek daardie eerste keer, want die straatnommer was agter die moedswillige rooi van ’n hibiskus weggesteek. “Gaan kyk waar die ander kinders speel,” het die dokter haar agtertoe gestuur,
onder haar ma en pa se onrus oor Rouxtjie uit. Twee meisies en twee seuns het mekaar al om die swembad gejaag. Hulle het ingespring, uitgespartel en na die strandbal bly gryp en skop. “Kom speel saam!” het die witkopseun wat net effens kleiner as sy was, geroep. “Kom!” En haar met die bont bal nader gewink. In die spel was hy blind vir haar rok en hulle swembroeke, maar hy wou haar skouer weg hê van die kombuisdeur se kosyn en deel van die gemaal en geplas. Sy het skaam haar pofmoue vir hom gewys, en hy het nog breër geglimlag. Maar toe pluk hulle hom terug in die speletjie: “Michael, Michael! Vir my, gooi vir my!” Nie lank daarna nie het haar pa haar kom haal, maar sy het iets bygeleer oor ander mense in ander huise. En sy het begin droom van ’n Michael wat haar daarheen roep. Daarop het sy twee briefies gevolg, “ek hou van rugby en ons het ’n hond”. Sy het telkens die vyf reëls voos gelees, maar die posbus het nooit weer vet ronde letters en ’n Randburg-stempel opgelewer nie, al het sy drie maal op ’n middag daarheen geloop. Hulle is weer een keer na die spesialis se huis toe, seker ’n jaar later, maar dit was in die kwartaal. Die swembad het spieëlglad in die agterplaas gelê, want die mamma het die skuitjie in Transvaal geroei. Dat dit sowaar hy is. En sjoe, lelik is hy nie.
Hoofstuk 16
“Karentjie, jy lyk anders.” Dominique skuif kant toe op sy swart leerbank en laat sy elmboog op die arm se mat metaal rus. “Van hier af kan ek jou en die baba mooier dophou.” “Wat ánders, Dommie? Daar hang ’n winkeletiket onder jou oksel uit.” “Ek wou sien hoe my nuwe T-hemp sit, toe is julle ’n bietjie vroeg. Jy kom mos net laat vir gradeplegtighede en sulke onbelangrike goed.” Hy kraai dit uit. “Ek weet nie, jy lyk juis mooier, serener … roekeloser? Iets! Het die hormone jou nog op hol?” Sy mik ’n hou in die lug in sy rigting. “Dis oor die plan wat ek gekry het, Dominique. Ek het ’n tema bedink waarmee net jy kan help en waarvoor jy dalk vir my sal moet Kaap toe gaan. Ek dink hierdie projek is net te groot om op my eie te moet afbyt, al is Ben hoe histeries oor ons banksaldo’s.” Sy tel ’n volstruisveer wat uit sy lampkap geval het op. “En dis jou ‘exotic’, jou ‘masala en kaf’ wat my die idee gegee het.” Sy bly stil tot sy wenkbroue opskiet. “Kaap-Maleis. Dis tuisgekweek en ons kan speel met speserykleure en selfs die geure, met wit linne, geborduurde trourokke en goue eetservies … En kos is mos op sigself kultuurgoed en kook ’n kuns,” sê sy bly. “Oink,” sê Dominique, en druk die onderkant van sy neus met sy voorvinger op. En toe sy haar asem intrek, lag hy: “Die varkiesnoet is hoe ons altyd die Moslem-kinders in ons klas geterg het, man.” Hierna laat hy sy oë lank op sy trots, die art nouveau-bak, rus voor hy opkyk. “En ek weet nie van die exotic in dié geval nie; dis mos onse mense.” Hy tuit sy lippe. “Dink só daaraan: is boerewors miskien exotic?” Sy voorvingers maak
twee aanhalingstekens. “Het ’n buitelander al ooit sy bek aan beskuit gesit? Kyk, as dit Ramadaan was, was ons vrek bly die bure gaan Vrydae moskee toe. Ons het ons vergryp aan die boeka-lekkernye wat die tannie oorgestuur het. Daai mense ken nie hulle maat met kos nie. Maar come to think of it, antie Shanaaz sal haar slap lag as ek vir haar sê ek wil brijani vir ’n hoteltema opdis.” “Hoekom, Dommie?” Sy is skoon uit die veld geslaan oor sy reaksie. “Hierdie hooglied van jou is ’n bietjie closer to home as ’n prins met ’n jakkalsstertskirt in Kenia. Dit gaan ons nie laat goed lyk nie, Karen. En dis belangrik. Dis te deurspek van slaggate. Kaap-Maleis is op sigself nie altyd ’n lekker term nie. Party mense raak maklik die duiwel in as jy ’n kwansuise Khoiouma of ’n Maleier-oom in hulle voorsate loop soek. Suid-Afrikaners is nie soos die klomp Australiërs wat skielik mal is oor die idee om ’n veedief vir ’n oupagrootjie te hê nie. Dis ’n gekompliseerde geskiedenis wat ons nie met ’n paar verfmonsters gaan bylê nie.” “Genade, Dom. Maar dink jy dan nie die speseryroete op sigself leen hom tot romantiek nie?” Die seuntjie wil niks meer weet van die bottel nie, en sy vee sy mondjie versigtig met die hoek van die doek af. Sy lig hom tot op haar skouer en sy voetjies trek oudergewoonte op, hy proe-proe na sy vuisie hier langs haar gesig. Sy soen sy wang so deur die melkspoor wat agtergebly het. “O, ek weet nie, Karen.” Dominique sit eers vorentoe en vee in die spieël met die oordrewe raam sy kuif plat. “Het jy jou standerddriegeskiedenis vergeet? Of nee, die boekies was mos nie lekker nie. In Jan en Maria se tyd was die speseryroete en die slaweroete een ding. Jy kan maar sê sonder daai kettings het die Nederlanders nooit knoffel en komyn in hulle kos gehad nie. En jy dag jou ouma is net in kaneel. My nooi …” “Maar Dommie,” val sy hom in die rede, “wat as ons navors tot ons lê en al die lae inweef, sal die tema nie dan die nodige diepgang hê nie? Ek dag ek het jou met enigiets wat na Kaap ruik onmiddellik in die sakkie.” “Jy het, dolla. Of dit nou met of sonder die liewe Ben se kopknik is, ek en jy hou albei te veel van ’n wiel wat draai. En ek sal hoeka nou ’n oogtand gee om in die Kaap uit te kom, solank dit nie die een met die goud in is nie. My oom en sy vennoot het my gevra vir ’n paar wenke vir die ysterwarewinkel wat hulle op
Saldanha wil oopmaak, en dis die oom wat altyd sy oog so mooi oor my ma hou. En die vennoot is daai ou met al die government connections; mens moet dit reg hou met hom ook. Ek is net nie seker van hoe sexy Kaap-Maleis kan wees nie.” “Maar Dommie, het jy nie juis laas ook geïmpliseer ons jop as binneontwerpers is deels om konvensie uit te daag nie, daardie drang om anders te wees as die ooglopende?” “Kyk, Karentjie, as jy so graag avant-garde wil wees, wees die stelbouer vir ’n rock musical van die Anglo-Boereoorlog waarin jy die tannies in space agekostuums opdress, met ekstra silwer om die kraag in die konsentrasiekamptonele.” “Dominique!” Haar kind se reaksie kook ook oor, maar gelukkig net op die doek oor haar skouer. Haar plat hand klop die skrik vir die wind uit sy lyfie. “Sien, ek is net nie reg hiervoor nie, Karen. Noem my ’n sissie, maar ek het nie nou tjou vir goed wat te maklik die lyn na heiligskennis kan oorsteek nie. Dan moet ek liewer aan my erfporsie werk en my oom gaan help.” “So jy is nou skielik ’n man vir hamers en spykers?” “Ha!” lag hy stout. “Ek is seker nog altyd ’n spykerman … Jy onthou mos ek het self hierdie plek opgekalfater.” “O ja. Jou swart en wit en oulap se lemmetjie verbloem die ou sondes net te goed. Jy het mos nog ewe elegant deur die plafon ook getuimel.” Sy versit die baba na die ander arm. “Sê jy eintlik die politiek loop te dik, Dominique?” “Kan ek die bybietjie ’n bietjie vashou terwyl ons ons vandag so nugter hou? Mits hy klaar getiets het. En ek sal nêrens heen val nie, ek belowe. Solank hy nie te veel blom ten aanskoue van soveel skoonheid nie.” Sy gee die bondeltjie vir hom. “Ag, my moeder, jou klein hartedief. Hou ek hom reg vas? Kyk sy skatlike bekkie, Karen.” Dominique tuit sy lippe weer. “Ek raak sommer broeis. En sal dit nie daai tantetjie in Woodstock se hart verbly nie.”
“Ek dink daar sal oornag nie ’n bol wol in die Skiereiland te koop wees nie, Dommie.” “Ja, wraggies,” lag hy. “Sal jy ’n koppie koffie oor jou lippe kan kry uit my Arzberg?” “Ek was juis benoud blikbekers raak nou die rage in jou deftige kringe.” Hy lag weer. “Ag nee, politiek is so ’n aaklige woord, Karen. Al wat ek sê, is dat speserye ’n komplekse idioom is, en ons kan gelooi word as ons nie katvoet loop nie. Mense sal sê hulle is nie net die kos wat hulle eet nie. En ons kan ewe reënbogerig sê kreools beteken harmonie en dis al daardie geure en Afrika, Asië en Europa in ’n hutspot. Ons kan ook tradisie en die gemeensaamheid om ’n tafel byborduur, maar is ons lus vir al die aansprake oor waar bobotie vandaan kom? Of het die VLU dalk al intussen vir Cass Abrahams ’n erelid gemaak soos wat dit deesdae in hierdie land gaan? “Wat sê jy, ou kleintjie? Is die oom nie maar reg oor daardie lekker groot boom nie? Oom is tog die slimste! Sing jou mammie ooit vir jou? “Koljander, koljander, so deur die bos!”
“Slaap jy, skapie?” fluister Karen vir haar baba en loer verby die doek oor die opening van sy waentjie. Hy het darem ingesluimer. “Slaap, Pikaninie … Pappie ry op sy vet ou kapater.” Dieper die tuin in staan twee hadidas krom in die kikoejoe wat al te geil groei. Die ligpienk op hulle vlerke glim in die son, en sy is bly nie die waentjie of die hond, te opgewonde oor mensgeselskap, steur die voëls nie. Een skel roep en haar baba is weer wakker. En dit wens sy nie die kind toe ná sy spoelmaag laas nag nie. Sy het gedink die vrees gaan haar verteer, maar gelukkig was Ben ’n wagter op die mure by haar. Maar hoekom is dit asof hy amper uitsien na Oumu se skoonmaaksessie? “Jy sal mal wees oor haar stories oor Mali, Karen,” het hy met die blinde oortuiging van ’n kind gesê. “Dit is ’n fantastiese land.”
Sy kyk op. Die platane se groen blare is al so groot soos ’n man se hand, hoe vergly die tyd nie. Vandat sy in daardie spreekkamer was, kan sy dit in haar kop en aan haar lyf voel, ’n domastrantheid wat haar bang maak. Dit is al asof haar gedagtes daarheen bly terughunker, na die ontvlugting van ’n vae nuuskierigheid oor die man met die blonde hare. Net soos die verbode paaie van haar kinderjare se gedagtes. Die sê nou. Sê nou Rouxtjie was in ’n tehuis waar hulle hom een macraméknoop geleer het en mens hom net Kersfees kon gaan haal, soos ’n oumens uit ’n ouetehuis. As hulle net soms gaan kuier het, soos die bring van ’n hospitaalbesoek. Haar pa sou oor Rouxtjie se dun haartjies gevryf het en haar ma sou ’n pakkie suikervrye lekkers saamgeneem het. En sy dalk ’n foto van die hond wat hulle nooit gehad het nie. Sy stoot die babawaentjie heen en weer tussen die voordeur en die hek onder die bome se koelte, te benoud om dit sonder die hond met haar kind op straat te waag. Dit lê nie in haar voorarms om die weerbarstigheid van ’n groot dier aan ’n leiband en ’n waentjie tegelykertyd te hanteer nie. Weersin en skuld. Sy ken dit, daardie beurtelingse beroering. Eers die terugdeins van jou gedagtes, en dan die ergerlike nesskop daarin dat dit reg is. En o, hoe jou wange sal brand as iemand daarvan moet uitvind. Dit is soos die twee hondjies wat haar neef Piet-Jan die dag in ’n aartappelsak toegebind het om snaaks te wees; hulle blaftjanke en gegrom was vir mekaar, nie vir die goiinglap en die balertou om die opening nie. Die dink en die skuldig voel oor daardie dink. Maar dié dubbelsinnigheid het destyds nog ’n maat gehad wat sy nie kon kleinkry nie: die pakkie ouderlinglekkers onder haar kopkussing wat Rouxtjie nooit moes sien nie, die steelse klop op haar skouer en ’n sagte kyk agter sy rug. Daar is versweë waarhede, so seker asof dit in sandsteen gedresseer is. Hulle mog dit nooit wys nie, nie eens vir hulleself nie, maar sy het dit klein-klein heimlik geweet: Sy was die verkose een, haar ma en haar pa se lieflingskind. Net soos in die kinderverhaal kon sy daardie teenstrydige feite nie eens in ’n
diep, diep gat fluister nie; die wind sou dit eggo. Daarom het sy ook dié skuld alleen gedra, om Rouxtjie nie nog verder te misken nie. En toe, haar ma? Sy het dieselfde aand van die ambulans voor haar bed kom kniel, gebuig en vir haar gewink: Kom uit, my kind. Haar ma het haar dogter se kop teen haar bors vasgedruk en tot vroegdag saam met haar in daardie knap bedjie bly lê. Tot die week ná die begrafnis was dit elke aand so. Toe, skielik, het haar ma in haar dop verdwyn, asof die weggooi van die roublomme iets in haar laat knak het. Haar ma se trane het binnetoe geslaan soos masels, en haar woorde. Sy lig die voorwiele van die waentjie om haar draai tussen die spoelklippe op die rand van die paadjie te kry, en verby die hond wat al weer oorhoops met sy eie voorbene is. Haar adolessente versugting na die spreekkamer moet sy nou nek omdraai. En sy moet geduld hê met die muur om Ben; hy kry seer. Skuld is ’n suur wat ’n pad kan vreet waar selfs ’n vlam nie suurstof kry nie. Maar tog, is skuldig voel nie op sigself ’n onvolwasse emosie nie? Durf mens nie so ’n rekening iewers uitdaag deur so troosteloos boedel oor te gee dat dit net afgeskryf moet word nie?
Sy laat glip haar hand oor sy rug en heup net toe hy wil wegraak. Ben is oombliklik wakker, en draai verdwaas om. Hy kom nog tot verhaal, toe druk sy al haar gesig in sy nek en haar lyf teen syne. “Karen …” Dit is die eerste keer ná die geboorte; hulle laaste keer, ’n ál spottende onbeholpenheid verby haar groot maag, is ’n vae herinnering. Haar tong gly na sy binne-oor en sy voel hoe sy hart in sy kuiltjie begin hamer. Sy is selfs haastiger as hy. Met sy kop tussen haar arms vasgepen soen sy hom met toe oë tot hy teen haar keel na asem snak.
Al langs die ou verkenpad af begin sy lippe proe, maar sy gee hom nie kans nie. Sy gryp sy hand, soen hom tussen die vingers en terg sy heupe met hare. Hy smoor ’n uitroep in die kussing langs haar oor en vat haar skouers vas. Sy wil nog lag, toe word sy al meegevoer, meegesleur die goddelike ritme in. Deur haar wimpers sien sy sy skadu teen die voilegordyne wat wit bol en saamspeel in ’n bries. Sy raak lig, lig, veerlig. Toe hulle uitasem omrol, dring sy nie soos altyd op ’n lang, nuwe liefkosing aan nie, haar losmaakritueel. Sy draai haar rug na hom toe, maar hy kom lê styf teen haar, sy hand eers op haar middelrif, en gaan dan aan die streel, aan die sirkel tot om haar bors, asof sy hom deur die jare die naspel leer nodig kry het.
Hoofstuk 17
Bertha moet nou net nie weer kom neuk met begraafplaas toe gaan soos toe hulle laas opgery het na Karen-hulle toe nie. Hulle was dan nog nooit eens weer by die graf van die doodgebore broertjie wat sonder naam begrawe lê nie, doer in die vertes van die Oos-Kaap. Sy ouers, haar ouers in swart in die voorste bank van die dolleë kerk met net die son en die wolke se beurtspel wat die sinkdak laat kraak. Daar was nie ’n orrelnoot om die hemel tydens die begrafnisdiens op te roep nie, net ses rou stemme wat skaars ’n vuil psalm se woorde uitgeprewel kon kry. Hy druk die eerstejaarshandboek in die laaste oop gat op die lang fisikarak in sy studeerkamer. Dit raak al amper pylvaktyd voor die eksamen. As hy nou van Neville oor ’n werkswinkel hoor, val hy op sy rug. Die motor se neus het Gauteng reeds geruik ná sy kleinkind se geboorte en vir die heel eerste keer het hy agter die stuur bly sit toe Bertha uitklim. Sy stil rebellie. Dit het Bertha ontstel, wat hom laat skrik het. Sy is ’n sterk vrou. Naby Roux se graf het sy sowaar ’n eikeblaar afgepluk en dit in haar hande toegeskulp, net asof sy ’n pand van hom wou saamry Johannesburg toe. Asof sy dit selfs soveel jare ná sy dood nie oor haar hart kan kry om een kind bo die ander te stel nie. Sal sy eendag so oor haar man ook treur? Hy hark die penne en potlode op die lessenaar vies bymekaar. Vreemde goed gaan deur ’n ou se kop ten aanskoue van die sipresse en blinkswart granietblokke, alles ingeperk deur gruispaadjies se sleepgang waarlangs almal se Sondagskoene altyd moet stoei. Die blerrie silwer van Statebondsgrafte. Snaaks hoe die skuld immer deur Bertha aan hom opgedring word.
Dit is seker hy wat sy loopbaan by Fort Hare begin het, en huis gekoop het in Alice. Die man wat moes beskerm het en nie kon nie. Die man by wie die smarte in die eerste plek ontstaan het, en in wie se bloed die onverenigbaarheid skuilgehou het. Sy broers kon dit nie glo nie; ’n blou baba? In 1977 het honderd en ses uit honderd duisend resusbabas in Engeland en Wallis gesterf. Syferbeheptheid is tipies van die mediese wetenskap. Het hulle nie hulle heiland al die jare só in wagkamerpamflette leer ken nie? Asof dit iets aan jou siel kan doen dat een uit vier van die bevolking aan hoë bloeddruk ly, of hoeveel miljoen aan asmakwale. Sien, nie net jy is besmet nie. Vlos net jou tande mooi. Die mot wat in die ligkring op sy aantekeningboek kom vrek het, blaas hy sommer af voor hy ook die spiraalrug in die laai druk. Alles is te maklik met ’n normale kind. Die dokter verbleek nie met die nageboorteondersoek nie; die baba huil regte huilgeluidjies. Later is die groeikaarte ’n grap. ’n Siek grap, want elke meting is ’n vergelyking, en volgens iedere maatstaf word die ouer kind te lig bevind. Mené, mené, tekél ufarsín. Wie het die Skepper getart dat jy telkens dié letters teen ’n muur moet sien brand? Wie se skuld is dit, rabbi, syne of sy ouers s’n? Uit elke liewe invalshoek het die syfers nie sin nie. Desondanks, in ’n onseker bestaan wat deur ’n koorspen gerig word, bly die liniaal, die skaal en die kalender al grondwaarheid wat jy tot jou beskikking het. Ses voet is vlak, het hy daar neffens die skaarsbeblaarde soetdorings gedink. Want hy sien dit by Bertha ook, hulle albei se oë is naarstiglik aan die soek na wat met Karen se baba verkeerd kan wees, asof dit die norm is. Hulle takseer opnuut. Die boom voor die venster maak al lang skadu’s oor die muur boeke se rûe. Hoeveel keer het hy nie soos ’n skoolseun een van die romans in ’n vakomslag gedruk nie, net om te maak asof hy werk en sodoende agter die kantoordeur te kan bly.
Hy het saans huis toe gekom wanneer Roux op sy moeilikste was, nie meer honger nie, en skoon, maar rateltaai van die een nee ná die ander. “Jy is al hoe meer by die universiteit,” het Bertha opgemerk. Haar besadigdheid kon skaars vinger wys. “Hoe meer werk ek uitsit, hoe meer kos het ons op die tafel,” het hy die karige artikelinkomste probeer regverdig, en homself daarvoor gehaat. “Jy weet wat van die ander ouens werd is.” Publiseer was die dekaan se dekreet, asof ses maande in ’n laboratorium nie soms tot een sin gedistilleer word nie. En met Karen se koms, mag ’n pa een kind liefkoos omdat sy so dierbaar is, en ’n ander omdat jy hom liewer wil doodkoester van jammerte? Roux het klein-klein al geskree as hulle voor hom aan Karen raak. Hy wou haar vir homself hê, die meisietjie wat al as baba op sy skoot getel is. En met groot oë het sy die seun met ’n kind se aanvaarding verdra, die kwyl, die kwaai wees om sy sin te kry, en sy hardkoppigheid as hulle hom iets geweier het. Sy moes deel en ’n speelding afgee, sy selfsug moes sy duld. As die gelag vir haar was, dit sluk. “Hy verstaan nie,” het hulle verduidelik, “jy weet mos, nè, poppie?” Hulle huis het vrede geken as Roux tevrede was, nie oor Bertha se Bach en die verdomde Vivaldi nie. So ’n kind kan homself nie help nie. As hy alleen bad, kan hy verdrink. As hy alleen eet, kan hy stik. ’n Veter is ’n Everest, en jy immer die Tenzing Norgay wat maak of jy agter loop. Nou is daar ’n nuwe kind, en al wat jou gedagtes kan doen, is om soos water wat uitloop se suigkrag kloksgewys terug te tregter na destyds. En nou, vir jou straf, moet jy al daardie verlore denke inhaal op ’n blink stoep onder ’n prieel. Of jou teen jou sin bevind in die oprit van ’n begraafplaas waaruit verdwaalpaaie vurk soos vir een wat ná jare gaan graf soek. Bertha met haar onverwylde inskiklikheid. Was dit sy vraag ’n week ná die begrafnis wat destyds haar skamele maar nog moedige woorde heeltemal laat opdroog het? Wou sy hom só nader aan sy dogter dwing dat hy die kind moes
troetel, tot saamneem op sy ekskursies die binneland in om studente te werf? As hy hom maar net ingehou het. Toe die sigaretpakkie teen sy bors druk, besef hy hoe ver vorentoe hy al oor die lessenaar leun, sy vingerpunte aan die tas oor die kwaste in die hout. Miskien wag Bertha al buite vir hulle laatmiddagkuier. Dit is wat hom kwaad maak van hierdie terugroei in die kop – spyt se numeriek neig immer na die oneindige. Mens se oë moet tog oop wees vir die nou, sonder indertyd se seer. Terugkrabbel het meer kloukrag as ’n druiwestok se groen rankarms, en dié is al sterk genoeg om ’n suidooster te weerstaan. Waarvoor mens moet wakker bly, is om ’n herhaling van daardie tyd se vergissings te voorkom.
“Wanneer het sy die beroerte gehad?” Hendrik versit die telefoon. “Twee dae terug, Karen.” Selfs hy kan hoor hoe sy skrik. “Hoekom het julle my nie laat weet nie? Wat van oom Johannes?” Hy skep hoop vir die doop. “My kind, hulle sit hom tot ons kom tydelik in die afdeling vir verswakte bejaardes.” “En nou gee julle my agt en veertig uur kennis dat julle op pad is.” “Ons moes eers ons dinge reël, Karen. Ek en Ma het kos gemaak dat ons iets kan hê wanneer ons by oom Johannes kom.” “Pa, julle kan nie kos van die Kaap af saambring nie. Hier is supermarkte in Johannesburg.” “Jy weet hoe ouers is. Ons sal in elk geval seker net by julle kom oë wys en eers met die doop kom. Ek en Ma het gedink om sommer by oom Johannes in die woonstel te bly tot ons weet wat die prognose is – as die oord se huisreëls ons toelaat om daar te woon.”
Die foon suis eers net. “Nou maar veilig ry, Pappa.” “Karen, daar is nog ’n ding. Ek en Ma sal nie as ons daar is vir oom Johannes alleen wil los nie. Ons gaan hom saambring doop toe.” Weer die stilte. “Nou maar reg so,” sê sy tog, haar stem gelykmatig. Hy het geweet sy sal niks kan terugsê nie. Familie moet mekaar koester, verdomp. Dit is uiteindelik al wat ’n man oorhet. Kollegas is soos mooiweersvriende; dit hou solank die werk hou. En hoe moes mens met ’n Roux vriendskapsbande bou wat nie op plig of jammerte gegrond was nie? Die besoeke het later deur ’n pipet gedrup en jy het begin onttrek, so steelstadig soos ’n slak. Nood gee af soos eensaamheid. Mense deins daarvan terug, selfs die dapperstes. Met die jare leer jy hard word, jy begin ’n skild ophou teen die hol klank van goed bedoelde woorde. Die arme Rachel. Vir hoe lank moet hulle klere inpak, twee weke of ’n maand?
Hoofstuk 18
Karen ken dit nie. Hierdie broeiende, obsternaat kwaad wees vir die wêreld. Kyk oor watter beuselagtighede stry sy en Ben. En befoeterd wees is nie sy nie. Maar daar staan die vrou nou met ’n emmer en ’n lap in hulle kamer. Oumu. ’n Bourekenaar met ’n skropborsel. Op watter soort vasteland leef ons? wonder sy skuldig. Maar Ben het vanoggend gesorg dat hy nog persoonlik hier was om haar te verwelkom. “Vertel vir Karen die babas in Mali maak hulleself aan die slaap, Oumu,” het hy vir haar gesê. Was dit eintlik ’n bedekte tik op die vingers vir sy vrou? Jakob sê hy en Ben pak omtrent al skuifspelde reg by die werk. “Miskien is dit goed dat die huurkontrak vir die kantore gou verval.” Sy wens sy kon Ben vir sy straf eers in sy vuil kantoor toesluit. Sy moet by die meubeluitstalling in Gallagher uitkom; dink hy die hele wêreld staan stil as jy vryskut? Al is dit eers oor ’n week die doop, het sy haar dapper gehou en baba en al by Woolies ’n paar goed gegryp dat die yskas nie so kaal vir haar kyk nie. Vir die mense wat Ben genooi het, sal hulle maar spyseniers moet inspan, al moet sy van die projek se borggeld afknyp. Die partytjie is sy laaste kniebuiging vir die werkmense. Hy kon darem iewers ’n predikant uitkrap en mooi broodjies bak oor hulle attestate. Nou moet Ben nog net haar ouers bel oor die naam, miskien wanneer hulle aanland by oom Johannes. ’n Leuen oor ’n tweede naam gaan nie werk nie. As dit alles ook net eers agter die rug is. En vir wat bly Dominique so glad soos ’n paling oor die katalogus vir die
wedstryd? Is dit omdat hy sy hand stewig op deelname wil hou dat hy bly sê hy het dit iewers verlê? Sy sal hom nou moet konfronteer of ’n ander een in die hande moet probeer kry. Maar hoe sal dit by die organiseerders lyk? Die huis sal seker teen laatmiddag skoon wees. Sy kyk onder die drabed se kap in. Ja, die klein mensie het aan die slaap geraak hier by haar voete in sy kamer. Die liewe ding. Dit is op haar wat hy sy ogies nuuskierig hou, en vir haar wat ’n halwe glimlag die ander dag gehuiwer het toe hy troetelglad van die seep in die bad gesitlê het. As haar selfvertroue oor hom net haar derms kan ophou brei. Sy moet nou die projek se slinger draai. Op en af loop sy; die pendoppie tussen haar tande het al bytmerke. Dit voel asof sy reeds dubbel en dwars deur elke eeu voor kolonialisme in Afrika se geskiedenis is. Dalk is dit Oumu se rok wat haar na Wes-Afrika laat terugblaai; veerpatrone in blou en turkoois met strepies bruinoranje en spatsels wit. Hierdie keer tand die neklyn op haar rug en die ritssluiter eindig in ’n vlinder. Daar is weer ’n doek om haar gevlegte hare, maar nou byna in die hippiestyl, sodat die slierte agter uithang en ’n stukkie van haar gedrapeerde kuif voor uitsteek. Dit staan op die voorste bladsy van die naslaanwerk se laaste hoofstuk: die soutroetes. Sy klap die boek toe en druk haar hand oor haar mond. Hoe het sy dit tot nou misgekyk? Daar is tot strepe in die kantlyn, sy het al hier gelees! Wat was die skille voor haar oë? Daar staan dit, swart op wit. Die gewaarwording word ’n blye rilling deur haar lyf. Sy het dit, daardie ou opwinding en angstigheid van ná ’n wedloop wat saam in haar maag draai, is terug. En met ’n lekkerte uit haar kinderjare daarby, ’n storie oor sout. Afrika se soutroetes! Eie handelspaaie wat regoor die vasteland vervleg en aansluit by dié deur die Midde-Ooste en regoor Europa, en ’n verhaal wat verder tot by die wêreld se eindes vertak. Sy kan haar oë nie glo nie. ’n Deurbraak, hier, in die boek wat sy nou al stukkend gelees het. Nie eens die speseryidee was dan nutteloos nie.
Daardie ou verbasing oor tyd se vormkrag kom oor haar, die as-dit-’n-slang-was van ’n idee. Dit sal haar bly verstom, bly verbyster, bly verras. En dit is haar ontvlugting. Dit is wat die ou denke verdoof: die maak uit niks, en gestalte gee. Skep. Dit boender gedagtes se sirkelgang uit. Hoe meedoënloos die opdrag ook al lyk, iewers kan jy aan die rafels torring en die skering en inslag blootlê voor jy jou borduurnaald uit die gespanne ronding van jou ouma se speldekussing lig. Michelangelo se skalpel het elke weefselgroep onder die vel leer ken voor sy beitel die spiere in Dawid se lae rug kon vleg, aan die ronding van Moses se knie vorm kon gee, en aan die Goddelike aanskyn van Christus se gelaat op Maria se skoot. Eers aftakel, daarna sintese. Die klei tussen ’n mens se hande, en die kleurpalet tot by grafiet se verganklike grys. Dit bou weer op en maak heel. Ben noem dit haar verslawing, en miskien is dit ontsnapping vir die gees, hoe tydelik, hoe vervlietend ook al. Sy strek haar op haar maag uit op die enkelbed, haar gesig in die krapperige Mexikaanse deken, haar vingers tussen die kussings se tossels. Dié god lok en verlei jou, dié volwasse spel. Staan nader. Kom, gee skiet, verlaat jou op die skaam hoop dat dit wat beslag kry, mooi kan wees. Dit voer jou mee, die holderstebolder van idees, as dit kom, of die sleurgang daarvan, want dié god gee nie met ’n oop hand nie, of glad nie. Jy wat nooit mog roem nie, staan verwonderd in dié binnekamer. Dit groei onder jou hande en kry ’n eiesinnige lewe wat onbeheers mik na die ondenkbare, na onbevange wees en leef. Die nederigheid word weggekalwe, so steels, tot ’n soet bedwelming. Kyk, hier is dit, hier is wat ek tot stand gebring het, kyk, dalk is dit goed. Maar net totdat die werklikheid weer so seker soos staal deurskemer, die vrees vir uitstaan: Ken jou beperkinge, en ken jou plek.
Maar die jare leer jou. Mens ken ook die remedie vir die veilige terugkeer tot soberheid voor trots jou nader lok soos ’n Salome se sluierdans, die valse vlam wat pleks van die helderste hemelliggaam die mot se navigasiebaken word en hom laat inspiraal. Jy moet die donkie se oogklappe aansit, en werk. Sy staan op, slaan die boek weer oop, begin vervaard tussen die teks en die indeks blaai en maak krulhakies en sterre in die kantlyn. Tyd verdwyn. Sout. Nou kan sy die Hausa-stadstate ook inwerk, en al die ingevoerde Venesiese glasware, Arabiese papier en Chinese porselein waarvan Dominique gedroom het. Dalk tot die Urewe-pottebakkerskuns en Maravi-katoen. Van die Islamitiese landstreke in die noorde tot Mutapa in die suide, wat ontstaan het toe Nyatsimba Mutota in die land van die Tavara na nuwe soutbronne gaan soek het. Die Ooskus-handel en latere die Atlantiese, met name wat mens kan proe, soos die Ijaw en Ibibio. Van Taghaza reguit na Timboektoe, op kamele se rûe en in groot kano’s se buike, in ruil vir kolaneute en goud. Menslike draers en donkiekaravane, die Nigerrivier. Saam met katoen en koffie, byewas en heuning. Die Toearegs se Bilma-monopolie. Die Songhai-ryk, Bornu. Die Taoudennimyne. Deur sout kon Loango kopermakelaar word. Al die geldeenhede en ruilmiddels, die silwer of goud, die dinars en kauriskulpe. En in Ethiopië se Danakil was sout geld. Alles is daarin saamgevat: reise, eksotiese ruilware, handelaars van verre bestemmings af, gevare. Die voordele van sout is legio: geen magspel vir ’n enkele land, en nie die geyktheid van metale nie. Dit is bloot ’n broodnodige kommoditeit wat in die vorige millennium dikwels meer gesog as selfs goud was. Sjoe, is dit te maklik? Sy wil sing. Sout bewaar teen die bederf, soms selfs net ’n knippie.
Hoofstuk 19
Dit is sy wat laat was, sy weet. En toe moet haar ouers wrintiewaar met oom Johannes by die huis aangesit kom net toe hulle wil ry. Weet hy ooit dit is vir hom so sleg tussen die bedlêendes, of is dit hulle wat dit namens hom dink? Déjà-vu. Of versterk hulle die Verhoef-geledere oor die baba se naam? “Dit sal in orde wees, hedendaagse mense gee graag hulle kinders die name Rosie en Violet en nie meer familiename nie,” het haar ouma haar ouers laat weet toe dié haar net “Karen” wou doop en nie Katherina nie. Hier kom fout, sy kan dit op haar maag voel. Die kerk sit gepak. Sy kyk benoud vir Ben, maar hy lig net sy skouers. Ek het jou mos gesê, sê sy blik, maar met ’n gemoedelikheid. Is dit omdat sy vanoggend, in die histerie van alles betyds regkry vir die mense, ingestem het dat Oumu gereeld een maal per week mag inkom om skoon te maak? Daar is geen ander genade nie, hulle sal heel voor moet gaan sit, Boet en Sus en tante Jo. Die span is minstens agtermekaar. Die buurvrou wys vir oulaas vir haar duime uit die moederskamer en Jakob sit op sy pos by die deur. Sy het self gesorg dat die lint perfek vasgestrik is op haar kind se bors en dat die kombersie in sy drabed pas by die naaswit van die dooprok vir die rondwys ná die tyd. Hulle vyf suiker vorentoe en gaan sit net met dié dat “Jesus, vreug van my verlange” se laaste note wegsterf. Toe die predikant op die preekstoel se onderste trap bid, vra oom Johannes
kliphard: “Doop ons vandag vir Le Roux?” Hulle almal sit versteen. Sy voel sommer haar bloeddruk val. “Doop ons …” begin hy weer. Ben vat haar hand, knipoog vir haar, en dit is asof die gebaar haar krag gee. Sy buig vorentoe. “Ons doop my baba, oom, my baba, Karen s’n,” sê sy sag. Oom Johannes knik en laat sy ken op sy regterhand rus, die are pers aan die bult onder sy papierdun vel. Haar ma woel ’n sakdoek uit haar horlosiebandjie en haar pa begin deur die Gesangeboek blaai asof die dominee ’n middelvers van Psalm 119 opgegee het. Sy asem diep uit. Die predikant is van die oorvriendelike soort. “Vriende, vandag doop ons die baba van Ben en Karen Strauss.” Al het sy dit verwag, skrik sy vir die aankondiging. “Klein Jakob se mooi naam kom van ’n familievriend, Jakob Gurirab, wat hom ook gaan indra. Ons verstaan hier is baie vriende, ek sien nogal ’n paar vreemde gesigte, en ook baie welkom aan die grootouers van die dopeling, Karen se ouers, Hendrik en Bertha Verhoef. Ek wil hê hulle moet ook sommer nader staan met die doop, hulle kom heelpad van die Kaap af.” Haar ma kyk benoud op, maar laat sak weer haar oë. Sjoe, Boet en Sus, omtrent. “En dan kan dié van u wat in u Bybels wil volg solank Jesaja 40 naslaan. Dit is waaruit ons Skriflesing vandag sal kom.” Net ná die Tien Gebooie word sy en Ben vorentoe geroep. “Belowe u en neem u u voor om hierdie kind, van wie u die vader en moeder is, wanneer hy dit kan verstaan, in die genoemde leer na u vermoë te onderrig en te laat onderrig?” “Ja,” antwoord Ben.
En sy knik haar kop. Toe hulle omdraai, kom staan haar ma en pa langs haar. Jakob begin in die paadjie afloop. Hy moet keer of sy glimlag span reg rondom, en die gemeente glimlag saam. Maar toe hy ’n paar rye van voor af is, staan oom Johannes op, gee die vier tree paadjie toe en hou sy arms uit vir die baba. Sy skrik haar asem weg. O wêreld, wat nou? Jakob, wat nie vir oom Johannes ken nie, kyk vir haar, en sy knik, ja, gee die baba vir hom. Temper die drama, soos toentertyd. Ben buig oor na die dominee se oor; hy hou kop, sien sy uit die hoek van haar oog. “Broeders en susters, ek het nou die formulier gelees, maar die voorreg om die baba te doop, behoort aan Karen se oom, professor Johannes Verhoef, wat nog vir my klas gegee het, so hy kan dit beter doen as ek. Ek gaan net langs hom staan en die mikrofoontjie nader hou.” “Doof die naam,” fluister Ben. Haar hart klop in haar ore. Sy wag nogtans vir die “Le Roux” oor die luidsprekers. Maar net die dominee, sy en Ben, haar ma en pa en Jakob hoor oom Johannes se gedempte “Karen Verhoef”. Die mikrofoon fluit sag en saai toe klokhelder uit: “Ek doop jou in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.” Oom Johannes hou die baba teen hom met die linkerarm, druk sy regterhand in die doopbak en raak telkens net veerlig met sy middelvinger aan die baba se voorkop. Hy doop die kind asof hy nog elke Sondag van die preekstoel af na ’n silwer bak toe stap. Hy buig sy kop en begin bid: “Almagtige, barmhartige God en Vader, ons dank en loof U ...” Elke woord so formuliergetrou soos al die jare. Sy stem dra suiwer oor die gemeente se geboë koppe, maar voor die preekstoel
is net die dominee en Jakob se oë toe. Oor haar ma se wang glip ’n traan. Haar pa het ook sy sakdoek uit, hy buig oor en vee die waterspoor van die baba se voorkop af. Net in sy wang spring daai spiertjie. Ben straal. Hulle vier staan en kyk vir mekaar, sonder skroom, hulle oë ketting mekaar vas, soos arms in ’n kinderspel, asof die “amen” nooit moet kom nie.
Hoofstuk 20
“Die Prediker sê daar is ’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat. Hy sê ook laat jou woorde daarom min wees, maar gelukkig was my nering om klas te gee, so ek kan ’n lekker langasem wees as ek wil.” Sy gehoor se gelag is salig op Hendrik se ore. “Ek wil net vir dié van julle wat dit dalk nie weet nie, sê die arme kind is gedoop in die rok waarin ek en my broers en al ons kinders ook gedoop is, soos ook my oudste broer,” en hy wys na Johannes. Johannes kom skielik agter al die oë is op hom. Hy lag goedig en knik sy kop op en af. “En gelukkig was Johannes op sy dag ’n predikant, soos julle almal wel ná vanoggend weet, want as die Wet sê ‘en Ek bewys my barmhartigheid aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet’, het my kleinkind darem minstens ’n meer amptelike lyn hemel toe as dit nie na my kant toe gekom het nie.” ’n Paar glimlag darem steeds met die hulp van ’n halwe glas sjampanje. Ben wieg van die een voet na die ander; hy weet dit is die toespraak wat sy skoonpa sou gemaak het as Johannes vernoem is. Karen en Bertha dink dit seker ook. “Nou, die verwagtinge wat mense van kinders het, verskil.” Karen lyk so bleek soos toe hulle vanoggend hier aangekom het. Johannes is ’n ou man, man. En Rachel het elke jaar vir haar ’n pers vyfrandnoot vir haar verjaardag gestuur. “Ben het, snaaks genoeg, nog nie soos wat algemeen verwag is vir die baba ’n stel gholfstokke gekoop nie, net ’n rugbybal.” “En ek het vir hom ’n Protea-krieketbal,” val Jakob hom in die rede, tot die
meeste se vermaak. “Wel, sy ma het seker ook klaar vir hom ’n stel inkleurpotlode onder sy stapel doeke weggesteek, soos ek haar ken, en hierdie ouma sweerlik niks anders as ’n tuinvurk en ’n koevert kappertjiesade nie.” Bertha se oë bly skuins voor haar op die grond. “Die groot ding wat ek wil aankondig, is dat julle nie benoud moet wees dat die kind ’n intellektuele agtergeblewene sal wees nie, want anders as die res se gebreide teddiebere, het hierdie sorgsame oupa vir die baba ’n abakus gekoop.” Jakob giggel eerste, en daarna volg die res. Iewers het die kleur in Karen se wange teruggekeer. Hy maak keel skoon. Oor ouerskap, van daar wees vir jou kinders, moet hy nog iets sê, maar sowaar, sy stem wil tog deurslaan, hier voor die mense. Hy moes nie al die sjampanje gesuip het waarmee Ben sy glas bly volmaak het nie; die borrels het die verganklikheid van seepbelle deur ’n kind se blaaspypie. Die gedelf in sy sak is gelukkig nie vrugteloos nie en hy vee dankbaar oor sy mond. Sy ma het geglo ’n sakdoek en frok dra is die seker tekens van ’n opvoeding. “Dankie, Ben, Karen, ons kuier lekker hier by julle, en dit is ’n voorreg om julle vriende te ontmoet, en dié wat ons al teëgekom het weer raak te loop,” ruk hy hom reg. “Ons het nou ’n pienk, lekkende klein verskoning om baie meer van julle almal te sien.” ’n Paar klap hande, so behendig of nie as wat ’n mens dit met ’n bordjie of ’n wynglas in die hand kan doen. Een ou probeer verby die hap tert in sy kies fluit, maar dit kom uit soos ’n tjoep wat afblaas. “Dankie, Pa,” sê Ben net, en lig sy glas na hom toe. Hy wonder of hy dalk vies is oor hy die kind se naam vermy. Dit is ’n papbektoespraak, maar wat maak ’n man? Net so ’n kale Jakob, bid jou aan. Hy dag bloed is dikker as water. Gaan staan en
vernoem die kind na ’n verbranne kollega, al ken Jakob en Ben mekaar al van universiteitsdae af. Dat hulle nie eens sy broer vernoem het nie. Die arme Johannes: God het sy eie predikant voorsien. Nes die aartsvader se vuur en hout en die blerrie lam ter slagting. Wat de ongeluk moes hy sê oor Jakob wat hy ken van praatjies maak oor Woolworths se pasteitjietjies? Jy dog nog jy hap, dan is jy al klaar gehap. Ag, man, ek is regtig bly Von Trotha en sy Schutztruppe het nie jou Namavoorouers bygekom nie. Sowaar die helfte van julle uitgewis as ’n oefenlopie voor die Jode, maar gelukkig is jy nie ’n Herero nie, want driekwart van hulle is afgemaai. Ben sê jou broer (wat dalk kan bylieg ná ’n kwartbottel tienjaaroud) praat van honderdduisend mense wat daarmee heen is. En sorrie, maar oor julle nie Europeërs is nie, gee niemand ’n bloue duit om nie – Hollywood se begrotings is otherwise occupied. Jul tydsberekening was effe uit – Suid-Afrika se boggherops is in die kollig want die Broeders het gelukkig tot ná die Tweede Wêreldoorlog gewag voor hulle begin aanjaag het met die bordjies vir alleen sit op die parkbanke. Hel. Jan Donderdag van Gorrelberg van donners Staden. “Pa,” kom pluk Karen hom aan sy mou. Nou sien hy, Ben het ook haar glas vol gehou. “Pa, kom kyk,” sê sy lieflingdogter, en wys na die doopkoek wat hulle present gekry het. Bo-op staan die paar lelikste babaskoene in menseheugenis uit blou marsepein. Karen stik in haar sjampanje weens sy geskokte ongeloof. Dit is darem enig, die maniere hoe ’n familie teen die wêreld laer trek, verteder hy. Verduidelik hierdie chemie nou vir iemand aan die hand van Boyle se Wet. “Wil oom-hulle proe?” Die buurvrou het hulle belangstelling raakgesien en staan slaggereed met ’n belinte mes soos op ’n troue. “Dis heerlike vrugtekoek, met kersies en korente.” “Maar ek sien die versiersuiker bedek nog alles … Hou dit miskien maar eers so,” sê hy, sy oë vasgenael op die mes.
“Ja, laat ek gou … Ek kry my kamera vir ’n foto,” sê Karen, skielik sober. Hy gaan sit eenkant op een van die plastiekstoele wat die spyseniers saamgebring het. Hy is al dik van al die Stormers-grappe en vrae oor die weer vandat hulle uit die kerk gekom het. Daar is darem van hierdie jappies wat kan vreet op partytjies. Kyk net die gestapelde borde. Nog ’n skeppie rys, nog ’n skeppie vleis. En Gauteng met sy opruiende geselsery oor wie nou weer beroof is. Van “gewelddadig” praat hulle asof dit ’n alledaagse woord is, en dikwels van mense wat hulle nie eens ken nie. “Gou vergete,” het M.E.R. se oom weemoedig desjare die goud- en diamantvelde se misdaad genoem. Ja, wat sal sulkes weet van geweld onder die eie dak wat nie eens oor die drumpel gekom het nie? Hoekom word sy hoop op ’n nuwe ekwilibrium telkens so verydel?
Hoofstuk 21
“Karen, jou pa is weer so opgewonde soos ’n kind oor hierdie klasgeebesigheid, al probeer hy dit wegsteek. Ons kan hom dit nie ontsê om terug te gaan Stellenbosch toe nie.” Ben maak die charcoalsak op die braaiplek leeg en krap die brikette oop met ’n stok. “O gits, dalk moet ek gou vir Jakob bel om sommer nog kole te kry, die slaghuis het mos.” “Is dit nie genoeg nie? Wat het van al jou hardekool geword?” Hy draai na haar toe. “Dis op,” byt hy, en sy oë blits. Sy sal nie daarop reageer nie. As hy vermetel genoeg is om te dink hy het die reg om elke aand saam met sy kollega te braai, kan hy die hele Namibië se bome in vlamme laat opgaan, dit traak haar nie. En as sy nou iets sê oor gisteraand se oempading wat al weer doef-doef oor die CD-speler, sal sy eers in die moeilikheid wees. “Ek hoop net sy klas gee is lewendiger as sy toespraak. En ek wil hom niks ontneem nie, Ben, maar wat gaan ons maak? Hy praat van ‘sy sake’ op Stellenbosch; hy wil nie terugkom voor Kersfees nie. Ek sal verbaas wees as daar wel enigiemand op die kampus oor is teen die tyd dat hy glo die lesing moet aanbied. En glo jy dit dat hy vir omtrent drie weke lank moet gaan voorberei?” Haar man gooi eers die vuurhoutjie op die strooi en takkies. “Wat kan ons maak? Jou ma sal maar net in die spaarkamer moet bly, en ons moet klein Jakob na ons kamer toe oortrek.” “Maar ons het dan uit die staanspoor onsself belowe dit is die laaste ding wat ons sal doen. Kyk met wat ’n gesteun het ons my lessenaar teen die trap uit daar ingedra.”
“Karen, dis net ’n tydelike storie. Kry vir jou ’n glas wyn en ontspan.” Ben maak nog ’n blikkie oop. “Dit kan meer as drie maande wees voor my tannie rehabilitasiesentrum toe gaan en ons eers weet wat die finale diagnose is. As sy hoegenaamd ooit weer in staat sal wees om oom Johannes te versorg. Met ’n beroerte is dit nie net vir hopscotch en arms lig soos in die liggaamsoefeningklas nie.” “Man, ek is seker die familie sal vinniger ’n plan maak. Vir al wat jy weet, wil jou ma ook nie eens hier bly nie. Kyk hoe katvoet was sy toe sy laas hier was.” “Is nie, Ben, my pa het spesiaal namens haar gevra. Sy wou dan ná die geboorte bly.” “Sy wou seker bly omdat sy gedink het sy behoort.” Sy kyk moedeloos oor die oorgroeide tuin. “Ben, hierdie storie om nie in Pretoria te wil bly nie, is ’n rookskerm, sê ek jou. My hemel, my oom is … is kens. My ouers is belaglik oor ‘wat die mense sal sê’ oor die saambly onder een dak. Sy is sy skoonsuster, maggies!” “En wie wou gehad het ons moes voor ons troue skelm saambly dat haar ouers nie daarvan moet uitvind nie? Van wat ek van jou pa verstaan, het jou ma in elk geval op haar dag nie vir Brigitte Bardot teruggestaan nie.” “Ben!” Hy lag; hy begin ontspan van die bier. “Karen, wat kan so erg wees? Sy gaan saans hier slaap, en nie eens hier eet nie en sy ry vroeg soggens met my motor Pretoria toe. Jy kan die hele tyd maak wat jy wil. Jy kan tot skelm haar dagboek lees wanneer sy in die dag weg is,” knipoog hy. Hy stop sy gekrap van die hond se pens en buig oor om haar hare te trek. “Jou hand vol roet stink na hond.” Sy trek haar gesig vies weg. “Ek is bly jy dink dis snaaks. Ek is bang vir haar oë op my rug, Ben. Kan jy dit verstaan? Wat as die baba in ons kamer huil en sy storm daar in? Sê nou die ondenkbare ramp tref my dat ek Pikaninie iets laat oorkom terwyl sy hier is?” “Wel, óf jy moet die nonsens dat jou ma jou oor Rouxtjie verwyt ophou glo óf jy
moet sorg dat jy klein Jakob heeltyd met ’n valkoog dophou.” “Ben, aan wie se kant is jy?” “Karen, daar kan baie verklarings vir jou ma se optrede wees, as dit wat jy haar toedig ooit die waarheid is. Jy vertel dan altyd hoe sy voor Rouxtjie se dood in ’n kokon geleef het. Dalk was sy te bang vir uitkom. Of dalk het sy haar daarna uitgeleef in daardie minderbevoorregte kinders omdat dit veiliger was om vir hulle lief te wees. Dalk was sy bang sy verloor jou ook.” Hy gooi ’n sluk uit die blik op die trae vlamme en dié spoeg terug. “Verskoon my, Ben, maar jy en jou bier is ’n erger jobstrooster as Heleen se man. Wat juis erg van my ma was, is dat ek nooit geweet het waar ek met haar staan nie. Toe Rouxtjie weg is, het sy my nooit weer gevra om haar in die tuin te kom help nie. Maar as sy my uitgeboender het om saam met my pa platteland toe te ry wanneer hy standerdneges vir die wetenskappe moes gaan werf, het sy koningskos in my kosblik gepak, van tjips tot tuisgemaakte fudge, wat in Rouxtjie se tyd gelykstaande aan rottegif sou wees, en selfs Kool-Aid wat ek uit die pakkie kon eet tot my tong pers was. Praat van ‘sy het my lief, sy het my nie lief nie’.” Toe iemand onder in die straat op sy toeter lê, druk sy eers haar oor teen die babaradio. “Karen, die groot geboks in jou is dat jy ’n rebel is wat eintlik maar nog altyd jou ouers wil please. As hulle jou wil verkwalik oor enigiets, is dit hulle saak, nie joune nie.” “Ben, jy verstaan nie.” “Karen, my ma het al vier ons seuns gelooi as een van ons stout was. Lyk dit vir jou asof een van ons lummels iets daarvan oorgehou het? Hoekom het sy dit gedoen? Was sy sadisties of is dit al manier waarvan sy geweet het om vier deugniete in toom te hou? Is dit haar skuld dat my pa nooit by was nie, of was hy bloot te sensitief vir hierdie lewe? Of moet ek kwaad wees vir die koedoe wat op die ou end voor sy bakkie ingespring het? Ironies genoeg vroegoggend, toe hy nog net koffie gedrink het. Sy suster, tannie Fransie, het eendag vir my gesê sy was bly oor daardie bok, want toe hoef my ma nie meer die beeste regoor die plaas weg te gesteek het dat my pa nie sy hande op hulle kon kry nie. Ek dink jy maak jou moeg oor goed waarop mens nie antwoorde het nie. En selfs al sou jy
antwoorde kon kry, wat is die prys as jy iemand oor iets konfronteer? Kan jy met ’n waarheid saamleef wat jy nie wil hoor nie?” Ben skop uit frustrasie na ’n been wat rondlê, en die hond lig half om dit agterna te sit, maar sak toe liewer terug in die saligheid van die penskrappery wat sy baas met sy plakkie hervat het. “Jy het minstens geweet jou ma is lief vir jou, Ben.” Sy buk om ’n skaapblom wat in die strook gras teen die braai wortel geskiet het uit te pluk, maar staan moedeloos terug toe die steel net bokant die grond afbreek. Dit lyk asof Ben wil lag, maar hom bedink. “Jy wat wel bereid is om te sê hoe mal jou ma oor my is, hoekom dink jy is dit so, Karen? Want jy is mal oor my. En ek weet nie hoe lief my ma my meer het nie. Sy het gevra of ek en jy nie wil plaas toe trek en help boer nie. Miskien moet ons selfs daaroor dink.” “Wat?” “Sy sê my broer se sakebelange raak so uitgebrei dat nog ’n hand welkom sal wees. En ek vermoed sy het jou spesiaal vir die hoenderboerdery in die oog.” “Sê sy so of sê jou Castle so? Ben, dis nie snaaks nie. Jy is ’n ingenieur in elke greintjie van jou wese.” Sy vou haar arms. “Ek drink Windhoek Lager, my vrou.” Daar het ’n gevaarlike stilte in Ben se stem gekruip, iets wat sy laas net ná die wittebrood gehoor en gehoop het sy nooit weer sal ontketen nie. Hy los die hond en draai na die vuur toe. “Miskien was my wese dan net nie goed genoeg nie, of hoe? My pa was ’n boer wat nie kon boer nie.” Hy lig sy hand om die speler se volumeknop harder te stel. “Karen, jou ma sal nie byt nie,” sê hy ná ’n rukkie, nog met sy rug na haar toe. “Ben, ek is bang,” sê sy sag. Hy staan nader om haar vas te hou, maar sy draai weg vir die rook-en-bierwalm. Ben deins terug en begin wegstap. “O, maar jy is mos kreatief, Karen, jy sal ’n plan maak.” Hy is klaar op pad, die kombuis binne. Die hond lê nog op sy rug, sy voorpote teruggetrek en die opwinding aan die wys tussen sy bene.
Haar ore tuit van die stil verwyt. Óf Ben se wanhoop is by breekpunt óf SABC3 was reg oor die resessie: “Kenners waarsku die slagting se gevolge kan wydlopender wees as wat enigeen kon voorsien.” Plaas toe? Is hy ernstig? Hy kan nie wees nie. Sy tel die babaradio op en maak die kanthek net skrams oop om te kan deurglip sodat die hond moet agterbly. Sy sal voor om ingaan voor sy haar op pad agterdeur toe in ’n bottel braaisous en suurlemoenpeper vasloop. As dit later moet, sal sy sê iemand moet die doktersrekeninge uit die posbus haal.
Hoofstuk 22
“Klim terug in jou karretjie, oom.” ’n Aar gaan in Hendrik se kop bars. Hy druk sy hande in sy broeksakke dat dit moet ophou bewe. “Vir wat ry jy so op my? Ek is niemand se oom nie!” “Dit lyk nie vir my of jy hare oorhet nie, oupa. En jy kruie.” Die poephol is al self aan die gatkant van veertig! ’n Motor agter die padvark wurm verby hom, maar ’n volgende trek gelukkig sy agterent toe. “Ek gaan jou registrasienommer neerskryf. Die hele pad behoort nie aan jou skedonk nie. Hoe de hel kan jy flikker dat ek op ’n wit streep verby moet gaan?” “Fuddy-duddy,” sê die jafel, sy lippe weggetrek oor sy tande. “Lees jy nie die koerante nie? Wil jy uitmekaar geslat word met ’n hokkiestok? Gee pad of ek ry jou des moers!” Die stront ruk sowaar sy kar uit die tien sentimeter wat hy tot sy beskikking het en ry hom amper om. Toe die Harley langs hom stilhou, pomp die adrenalien nog. ’n Plaat motors het agter sy motor by die stopstraat opgedam. Toet! Toet-toe-e-e-t! “Is als reg, prof?” vra die ou versigtig. Hy kyk vervaard om. Die man is ’n oudstudent, sonder sy baard. “Ja, dankie.” Hy knik sy kop in die rigting van die blink pype en klim in sy motor. Die samaritaan lig sy hand vir die geduldiges en knor weg.
Sy bene het so die ritteltit, hy kry skaars die koppelaar ingetrap. Hy draai links in die eerste dwarsstraat en rem toe hy ’n inryparkering sien. Die motor agter hom ry amper in hom vas en blaas hom ook uit die aarde. Oom! Asof hy by die poskantoor ingestap het! Hy laat sy kop tot op die stuurwiel sak, maar skrik terug toe sy eie toeter piep. Wie dink die klein stront is hy? Wie de hel betaal meer belasting vir die paaie, hy of Tatoeëermerk? Met meer stampe op sy bakwerk as ’n blerrie driving schoolinstrukteur, en net soveel stickers ook. Wat het die woede soos uit sy jeug in hom ontketen? Blind en onbeheers soos ’n bul wat bloed sien. Hy het laas in ’n eerstejaarsklas sy humeur verloor. ’n Vermetele vent van ’n student wat hom oor weke en weke gekoggel het. Met laat kom, tussenwerpsels en hom smart hou; partykeer was die pisuitdrukking op ’n student se gesig al genoeg om jou lus te maak om hom te wil donner. Hy vra daarvoor, hy nooi jou uit: Bliksem my, want my pa het nooit. Dit sou nie by die universiteit uitgekom het wat ’n paar weke tevore in sy kombuis gebeur het nie, maar die student moes die dag agtergekom het hy was nie lekker nie; hulle voel dit mos aan soos ’n reun ’n teef op hitte ruik. Genade. Op ’n manier het die gebeure gelukkig uit die dorpskoerant ook gebly. ’n Familietragedie, is wat altyd in die koerant staan. Geen gemene spel word vermoed nie. Spel, sê hulle. Wat is geméne spel nogal? Met ’n peashooter skiet? Knyp-’n-knyp-’n-tangetjie? “Meneer Van Wyk,” het hy so bedaard as moontlik vir die student gesê. ’n Man kan net soveel vat van ’n hansworshemp, ’n gevroetel en ’n penneblik wat soos klokslag driekwart deur ’n lesing op die grond neerdonder. Van Wyk het hom een kyk gegee en verstar, sy oë omgedop, met klein rukbeweginkies in die nek begin en gemaak of hy ’n epileptiese aanval kry. Die meisiekinders in die klas het hulle simpel geskrik, ’n rugbyspeler of ’n ding het hom nader gehaas, en “Gryp sy tong!” het iemand gegil.
Sy bene het hom van die verhoog af halfpad die lesingsaal se skuinste uit gedra; dit moes binne ’n oogwink gewees het. Die studente wat om Van Wyk saamgebondel het, het oopgemaak soos vir ’n slang. Sy wange was vlamme, hy kon die woede in sy keel af voel brand. Die stommerik se grootte ten spyt het hy hom met een pluk van die grond af regop gehad. Van Wyk het sy gat af geskrik. “Fokkof uit my klas uit!” het hy geskree, “fokkof!” Die belhamel het met die swikkende agterbene van ’n skoothond wat agterdeur toe geskop is koers gekies. Al wat gekort het, was die geel pisplassies tussen sy bene. Vir ’n oomblik het hy aan die bank vasgehou, tot die bloed in sy ore ophou suis het, omgedraai, ondertoe gestap en stadig die trap na die verhoog uitgeklim. Hy het nie geweet of hy ’n stem oorgehad het nie. Tog sou ’n fluistering daardie klas kon verdaag; jy sou ’n glassplinter kon hoor val. “Dames en here, dit sal al wees vir vandag.” Net ’n handvol het die volgende dag se onvoorbereide klastoets oor die halwe lesing se werk deurgekom. Die padvark sit, sit, sit hier al op sy jack, al van die snelweg af! Sulke tipes sal kinders langs die pad doodry en wegjaag. Hy kan die moegheid dwarsdeur sy lyf voel, die agterna van die liggaam se reaksie op eerste rat. Hoekom het hy toegelaat dat die man hom so opgewerk kry? Blerrie kwaitomusiek wat bo die verkeer uit blêr. Hulle soek vir stront, maar sonder die gevolge. Hel, hy kon nog altyd ’n student met ’n blote smeersel sarkasme op sy plek sit. “Onderwerp jou sitvlak aan swaartekrag, meneer Uys. Gravitasie en materie is manifestasies van mekaar, meneer Uys.” ’n Ligte gegiggel sal deur die eerstejaars ruis en dan is die orde herstel. Hulle weet net nie dit is nie al krag wat ’n man ondertoe kan trek nie. Op ’n dag gaan jy oorreageer.
Vir jare hou mens jou bek en krop en krop op en hou jou in en op ’n dag vat dit bloot ’n versekeringsnavraag en ’n Yank-aksent wat jou paai om geduldig aan te hou vir ’n operateur wat jou laat wens jy kan soos ’n walvis deur ’n gat in jou kop koolsuurgas uitspuit. Meters die lug in, want anders gaan jou gehoorapparate donnerswil uitskiet soos jy jou top blaas. Geen mens moet die reg hê om ’n ander te bind met frustrasie soos met Simson se snare wat nooit uitgedroog is nie. En dan het jy self ook nog partymaal ’n blerrie cowboylus in die hand.
Hoofstuk 23
“Ek moet bieg ek is bly ek het ’n kantbra aangehad, Dominique.” Haar pel se mond hang nog steeds oop. “Karen, jy is van jou trollie af!” Sy slaan haar oë neer en trek net haar skouers hulpeloos op. “Ek bestel sommer ’n stuk koek van ontsteltenis.” Dominique kyk om na die glaskas waarin die gebak draai, maar die kelner met die lang, vierkantige voorskoot is skoonveld. “Kom ons kry mekaar by die Europa-koffiekroeg by Melrose Arch,” het sy vir hom voorgestel omdat Ben en Jakob Pikaninie oppas. “Maar hoe het dit gebeur, het jy die pediater omgepraat om pleks van die baba te weeg gou na ’n weggesteekte moesie te kyk?” “Nee, man.” Sy sit die hotelkoppie neer, druk haar gesig in haar hande en loer deur haar vingers vir Dominique. “Ek het uitgebars in trane. Pikaninie het heelnag opgegooi van die koors en hy het al setpil wat ek oorgehad het, uitgeblerts. Ons het gedink hy hou niks vog binne nie, en Ben was later kwater vir my histerie as vir die baba. En ek het sommer geweet in die kamer langsaan sit my ma penregop op haar bed.” “Liewe aarde, Karen, en dit gee jou die reg om in die eerste en beste kwak se arms in te storm?” Dominique gooi nog suiker in sy Milo. “Nee, hy het eers die skapie deurgekyk en toe na my gedraai. Alles het net te veel geword, en hy het my vasgehou.” “En toe spring jou hemp se knope vanself oop,” raas hy. Gelukkig is die tafels om hulle leeg.
“Nee, Dommie. Ek kan nie eens vir jou sê nie. Hy het my eers net vasgehou, en ek het ophou huil, en toe ...” “Magtig, Karen, dit is net ná jou baba se geboorte. Dit is die tweede keer in jou lewe dat jy die man sien.” “Derde keer,” mompel sy, maar dié lamlendige verweer gaan by Dominique verby. “So, onder die dekmantel van professionaliteit slaan hy sy kloue om jou en verlei jou terwyl jy staan en tjank?” “Ja,” sê sy beteuterd, haar oë desperaat aan die soek oor die vertrek se skoon lyne. Haar pel hap na woorde. “En ek sweer jy het seker nog vir die afspraak betaal ook.” “Dominique!” protesteer sy, maar laat dadelik weer haar oë sak, te bang vir wat hulle kan verklap. “Hy was so sexy, my tone krul elke keer as ek daaroor dink. Hy het net sag met my gepraat en …” “Vader, Karen, my oortjies tuit.” “As ek en jy en Heleen nou saam gesit en wyn drink het, sou julle gespot het dis cheap brag. Ek is jammer dat ek dit aan jou doen om alles uit te blaker, Dominique, maar ek moet uitpluis wat hierdie seker wildvreemde man aan my doen. Ek, wat getroud is met ’n rots, wat vir my liewer is as vir sy droë land.” Haar koppie is leeg, maar sy hou dit vas asof dit nog winter is. “Wat, het hy jou soos in die flieks oor die lessenaar gegooi?” “Nee, man. Die wonderlikste is hy het die hele tyd met my bly praat. Hy het my geliefkoos, en uitgevra oor my vrese, maar my keel het nie toegetrek nie, want sy hande het bly troos in my hare.” “Soos ’n hairdresser wat wil hê ’n kliënt moet terugkom of soos iemand wat met skedelleerprakties besig is?” “Oukei, oukei, Dommie. Ek sal jou die gory detail spaar. Maar ek sê jou, met
daai seunsglimlag wat my bly terg, het ek later gewens hy skeur die romp van my lyf af.” “Hemel, Karen! Hou hy die kondome in ’n beker langs die rooi suigstokkies? Dit klink vir my na hooflettermoeilikheid.” “Dominique, ek weet nie. Dit voel asof ek ook ’n keer in my lewe kan doen wat ek wil sommer net omdat ek wil. Dit is asof ek ’n trapsuutjies in die geselskap wil gooi en kyk wat almal daarvan maak. Ek kan vir jou dit sê, as die foon nie gelui het nie …” “Goeiste genade,” val Dominique haar in die rede, en skud sy kop. “En ons het altyd gedink Heleen sal die eerste een wees vir ’n affair, oor daai droë drol waarmee sy getroud is omdat sy bang was vir op die rak sit.” “En toe vat hy haar nog Nieu-Seeland toe ook.” “Karentjie, jy weet ek het jou hartstogtelik lief, maar jy is hartstogtelik aan die droogmaak.” Hy wys vir die kelner hy moet nog ’n ronde bring. “Dommie, ek slaap te min, dink te min. Ons moet praat oor die projek, oor daai katalogus. Die kleinding was vir ’n paar dae nie lekker nie en toe eergister … En by dit alles my ma wat by ons ingetrek het. Ek weet nie wat ek gaan doen nie.” “Wel, jy het die stupidste ding gedoen wat jy kon. Hierdie Michael is obviously ’n tweegatjakkals. Op die rebound.” “Maar hoekom bly ek obsessief aan hom dink? Is dit moontlik dat ’n mens op die aarde so gou kop kan verloor?” “Dolla, jy kan partykeer so vrek naïef wees, enigiets is moontlik. Wil jy nou vry of aan ons projek werk? Moet net nie gaan staan en naam weggooi in die bedryf weens ’n tydmorsery op iets onnosels wat kon gebly het nie.” “Dominique, jy sê altyd ‘you never let your hair down’. Ek voel so skuldig soos môre heeldag, maar ek kan nie vir jou sê hoe onbevange lekker dit was nie. Jy weet ek bekommer my nog altyd oor my familie stoer en rein, oor Ben. En ek … ek weet dit klink mal, maar dit voel soos nuwe asem, iewers in hierdie gemaal van kommer en seerkry en skuldig voel, soos lewe.”
Al antwoord wat sy kry, is die gestoom van die espressomasjien, ’n kelner wat terugroep na die oopplankombuis en die getjie-tjie van ’n mop aan sy steel oor die teëls al om die stoelpote voor die middagetekliënte kom. Dominique vis vies met sy teelepel na die vel wat die melk op sy nuwe koppie Milo gemaak het. “Mens kan sê van Ben wat jy wil, maar mens weet waar jy met hom staan. Dis die minste wat jy aan hom verskuldig is. Ek trek jou nog sommer oor my skoot.” “Waar is die katalogus vir die wedstryd, Dominique, het jy dit al opgespoor?” “Hoekom, Karen, vertrou jy nie my opsomming nie? Jy het nie die tyd om deur daardie bladsye en bladsye fynskrif te delf nie, ek belowe jou. Dis alles net ’n klomp kopieregtwak dat die inskrywing aan Sun International behoort ensovoorts, ensovoorts. Jy het mos die kontrak geteken. Probeer ook ’n keer in jou lewe om nie die control freak te wees nie. Jy wat verkleurmannetjies in geselskappe wil gooi, kan nou regtig ’n slag sonder die buitelyne begin teken. Jy is mos nou mooi groot, of hoe?” Hy lag om sy stelling te versag en vat aan haar hand, maar sy hoor tog seerkry in sy stem. Het hy die ding of het hy dit weggesmyt? Maar sy gaan op sy tone trap as sy hom weer vra. “Hoe gaan dit met jou deel van die navorsing, Dom?” “Ek weet dit sal broekskeur gaan, maar ons moet darem kyk of dit nie sal moontlik wees om met daai borggeld iewers op ’n stukkie van die soutroete te kom nie, Karen, net om die woorde op papier ’n bietjie lewendiger te kry. Dink net hoe elegant ek met ’n tulband sal lyk,” sê hy net ’n aks te selfvoldaan vir snaaks wees. Sy probeer glimlag, maar kyk liewer af. “En ek is jammer dis ek wat dit nou weer moet ophaal, maar Karentjie, dit lyk my jy gaan nou altyd ’n slaaf aan jou been hê. Sout is vele kere meer vir goud verruil, en sowaar tot vir die kliere van sivetkatte vir die maak van ’n bietjie doerietydse Chanel no. 5, maar met handel wat so verweef is … Die goeie nuus is dat ’n slaaf meer werd was as ’n bok, maar minder as ’n kameel. En gelukkig het ek nog nie op ’n ruilwaarde in sout afgekom nie, maar in 1654 het die Franse in Martinique nege honderd en nege kilogram suiker vir ’n slaaf betaal. Kan jy dink hoeveel slawe Oumu in haar lewe sou opgedrink het?”
Sy trek die naslaanwerk oor mandjiewerk langtand nader, maar iewers moet sy begin vordering wys. En as sy by die grofste teksture begin, sal sy dalk by sy kan eindig, ’n breekdun draad tot by ook die syroetes. Ben het Pikaninie uit haar arms kom haal en sy kantoordeur met ’n sagte klik toegetrek “vir as klein Jakob begin huil”. Die doop se harmonie het haar so laat hoop op ’n nuwe huppelgang, maar haar pa se gepraat in die lug, en haar ma wat haar so skaars hou, dit hou al die ou vrese vasgestrop. Haar kop is al weer op pad spreekkamer toe, maar sy dwing haarself om te konsentreer. Pikaninie het nog genoeg van die nuwe, meer voedende melkpoeier vir ’n week en sy volgende fisioterapieafspraak is eers oor twee dae. En al vat Michael die ontvangsdames so maklik kort, kan hy hom eintlik nie draai nie. Die nederigste van handwerk, noem die boek mandjies. Deur eeue heen was dit so nodig in die alledaagse lewe, en prakties, maar met intrinsieke skoonheid. En die skrywer haal ’n seëning vir die oesmandjie uit Deuteronomium aan. Mandjies is nie net dragoed in die hand of aan die flanke van kamele nie. Dit was bêreplekke vir van water tot kos en is ook ingespan vir die bymekaarmaak daarvan, soos fuike vir visvang. Waarna moet sy eerste kyk, bamboes of rottang, gras of riete, of die plat gekronkel van stroke vel en leer? Of bas of strooi? En sal ’n gestrengel die jong lote rig, of die vleg- of spiraalmetode? Dit is jammer sy sal verby die soutlose Benin moet blaai; die stadstaat wat naas sy mandjies, pottebakkery en glasmakery van die aangrypendste beeldhouwerk in die mensdom se geskiedenis geskep het. Maar die Lunda in die Vallei van die Bo-Bushimani in Sentraal-Afrika is met sout of koper uit sy distrikte betaal, of met raffia en mandjies. Ook die Loango het naas die produksie van sout raffiadoeke gemaak. Sy hoop net sy is op die regte pad. In dié geval kan ’n kliënt haar nie terugstuur tekenbord toe nie, dit sal alles of niks wees. Die geprik van naalde en spelde laat haar haar voete onder haar uitvou op die
bank. Miskien moet sy maar dapper wees en weer by die lessenaar probeer werk. Haar ore bly ingestel op die toe deur, asof die sleutelgat die nuwe babaradio is. Sy kan nie glo in wat ’n kort rukkie dit ’n werklike gemis geword het as die ou dingetjie nie by haar is nie, sy warmte teen haar en in haar. Kan dit skadelik vir ’n baba wees as jy die hele tyd jou lippe op sy voorkop wil hou, jou wang teen sy slaap, of jou hand om sy koppie as skild teen die weerloosheid van die fontanel? Hoe hy hom darem kan verkneukel as sy vir hom sing. Sy skud haar kop. Sy moet konsentreer as sy iewers wil kom. Dit sal Dominique se omsigtigheid met kultuur kos om nie die natuurlike materiale uit hulle aard in te span nie. Om dit te doen, is ’n seker definisie vir kitsch, het een van hulle professore altyd gesê. Stoele en matte sal die hoteltoets deurkom, en seker ’n vullisdrom, maar sal ’n lampkap uit mandjiewerk outentiek wees? Sy bly blaai. Die kou uit Thailand waarin grondduiwe gevange gehou is, trek haar aandag. Die duiwe is geteel om dié wat die mooiste kon sing te kry. Ook by ’n wieg steek sy vas, by haar pa se beheptheid met die Romeinse: The very word “cradle” is derived from the Latin “cratis”, meaning a basket made of wickerwork. En natuurlik, die volgende sin is oor die pikbesmeerde biesiemandjie uit Eksodus. Hoe is dit dat sy altyd só iets sal raaklees? Sy blaai om, ’n bababed sal nie vir die hotel nodig wees nie. Wie sal in “bose Afrika” met ’n baba op reis gaan?
Hoofstuk 24
Hendrik kan dit aanvoel oor die voorste leë rye houtbanke en in die hol akoestiek. Hel, en hy het so hierna uitgesien. Sit sy oudkollegas so afgehaal soos standerdsesse wat begin besef die hoop op die vlugtige ontploffing van ’n nog groter knypsel kalium in die wetenskapjuffrou se bak water verskraal? “Is daar enige vrae?” is mos die manier waarop jy jou oordrag aan ’n klas studente toets. As daar geen reaksie is nie, het jy niemand met jou saamgevat nie, nie eens die brightste spark in die klas nie. As die aanbieding so elementêr was dat almal dit verstaan, sou die slimmerd in elk geval ’n vraag uitgedink het om te wys hy is op jou vlak, hy is tewens beslis intelligenter as jy. Nee, óf niemand het geluister nie óf jy was bokant hulle vuurmaakplek. Sy gesigspiere moet nou net in toom bly. Hy gaan liewer nie vra nie. Voor hom sit van die beste breine aan die universiteit, hoogstens te linkerbreinbehep vir ’n sosiologiese duik op hulle siele: “Hoe om ’n vak soos fisika didakties vir niewetenskaplikes toeganklik te maak.” Hy het die natrosse te lank laat hang. Hy het intensief voorberei, dalk te ywerig. Kwinkslae, filosofie en taal; hy en sy broers was nie een sleg op dié terreine nie. Mens het daardie lang Sondae op die plaas mos omgelees. Dit is nuwerige navorsing daarby, dit het hom twee dae in die Ikeys-biblioteek gekos, maar hulle sit en kyk vir hom, meet hom met die oog. Fred kou sy pen en Elsa speel met ’n uitveër. Wat gaan die ou man alles uit die hoed pluk? het hulle gewonder. Almal is dan so skerpsinnig wanneer hulle voor hulle eie klasse staan; wat kan ’n afgetrede ou moer hulle leer? Het hierdie boer ’n plan? Hel, nie dat sy pa gedink het hy het dit in hom gehad om te boer nie. Het hy te lank aangehou? Desperaat teruggegryp na wat was? Hy het geweet hy moes by sy vak gebly en hulle oorrompel het met die nuutste uit Engeland of Japan. Maar hy was bang. Hy het nie bygebly nie. Wie kan? ’n
Paar maande weg en dit sal jou weke neem om in te haal. Neville het tot knap voor die eksamen gewag voor hy hom oor ’n werkswinkel gebel het. Hy het die maklike uitweg gekies, en sê hulle iewe gevrete dit was ’n fout? Dalk wil hulle eerder punte optel as voor hom in die lesingsaal sit. Teleurstelling spoel deur hom soos op daardie eerste aand saam met Bertha. Maar nou het hy nie ’n leeftyd oor om op te maak vir ’n nuweling se onbeholpenheid nie. Die spyt laat hom afkyk. Sy kollegas merk sy reaksie, en dit is asof hulle uit skuldgevoel regopper sit, en aandagtiger probeer luister. Die gedwonge belangstelling gee hom ’n skeppie moed. Toe tref dit hom: Die ego, jy moet nooit die ego onderskat nie. “Neville,” sê hy vir die departementshoof, en ook dié skrik uit sy gerieflike beswyming wakker. “Wat is die grootste verleentheid wat jou al voor ’n klas oorgekom het?” Knopmaag se oë vlieg na die hoë dak. “H’n-’n,” tas hy, maar vind nie. “Ek weet nie … Seker die dag toe ek ’n waterkraffie van die tafel af geslaan het.” Die kollegas lag. Hendrik gee ook ’n laggie; dit het die regte effek gehad. Dit lyk asof almal meer oplet. “Ek het een keer Max Planck se naam vergeet toe ek met ’n baie mooi meisie gepraat het,” spot Gustav, en die ouens lag weer. Piekfyn. Die brein verwerk nou die moontlikheid van verpligte deelname, of die inoes van sosiale en professionele punte. Hy voel ’n bietjie van die ou energie deur sy are stoot. Daar’s hy, laat hulle dink dit is hulle vertoning. “Goed, ek gaan afsluit met ’n vraag wat elkeen moet beantwoord: Wat is die eienaardigste sosiale insig oor die vak waarmee jy nog vorendag gekom het?” Hy kan die ongemak oor voorkoppe heen sien trek, die blesse binne, en aan ’n vinger op ’n frons en die krap van ’n ken. “Hoe lyk dit, Elsa? C’mon, Fred!” Die sekondes tik. Hy is lus om vir die lewendige Govender te vra, maar netnou lyk dit asof hy op sy opvolger pik. “Now why am I all of a sudden Fred and not Soutie as usual? But okay, you win,
Dutchman,” sê Fred, wat almal weer laat grinnik. “Toemaar,” sê hy en gooi sy arms terug soos een wat opgee. “Julle hoef nie die uiteensettings nou te gee nie. Dis tuisdinkwerk vir ’n volgende keer,” smee hy die yster vir ’n tweede lesing. Hy kan die bewondering lees. Nie dat dit seker so vrek belangrik is nie. Net die basiese erkenning, net die kopknik dat ’n man ná alles nie ’n fool is nie. Net toe hy sy papiere op ’n hopie begin kap, skiet Neville se hand omhoog. “Wat, Hendrik, was jou grootste insig?” Die bliksem. Hy moet altyd die laaste sê hê. Hy kyk af na die notas in sy hand. Die drol sal nie daarmee wegkom nie. “Menere … dames,” sê hy om tyd te wen. Laat hy maar die hou plant, sy kop kry nie ’n ander agterdeur nie. Die ironie is dat Neville nog al blikskottel is wat sy huislike omstandighede al daardie jare terug geken het. “Dié van julle wat nie julle voorgraadse kennis laat verroes het nie, sal die berekening onthou, hoe ons met parallaks die afstand van hoe ver ’n ster van die aarde af is, bepaal. Ons doen dit deur die hoek tussen die ster en die uiterste pole van die wentelbaan van die aarde en die lyn loodreg tot die son te gebruik. Wel, minstens tot by sterre wat honderd ligjare ver is, waarna die metingstegniek te onbetroubaar raak. Nogtans merkwaardig, sal julle met my saamstem. Hoe lui daardie aanhaling nou weer? ‘Die wonder is nie dat die sterre so omvangryk is nie, maar dat die mens dit gemeet het.’” Hy skink ’n sluk water in die glas. Laat hulle wonder. Laat hulle dink hy wil praat oor die astronomie se stertrosse, rooireuse en witdwerge. “Wel, my seun, van alle mense, het my laat besef dat die toeing van parallaks in sterrestelsels, en die akkuraatheid daarvan, hoegenaamd nie opweeg teen die belang daarvan by die gelyk skink van twee glase koeldrank vir ’n boetie en ’n sussie nie.” Die ouens lag kliphard en begin hande klap. Net Neville nie, en hy glimlag ook nie saam nie.
’n Tweede lesing, weet hy, het hy pas op sy maag geskryf en met sy hemp doodgevee. Joegaidie vir sy terugkeer na die akademie.
Hoofstuk 25
“Jy het wát, Ben?” Sy sit die lêer met linnemonsters neer, trek die lessenaar se stoel uit en gaan sit byna op haar ma se gesigsakkie en ’n oorgetrekte A5-boek wat soos ’n Nuwe Testament en Psalms lyk. “Karen, dink jy ons kan ’n keer ’n normale gesprek voer?” Hy skuif die seuntjie na sy ander heup toe; dalk raak Pikaninie selfs vir hom al effens swaar. “Ben, jy het nie vir my pa geld gevra nie.” “Dis dan wat ek nou net gesê het, Karen. En hy gaan dit vir my gee, hy het dit belowe sonder om te aarsel. Ek het net-net genoeg gevra vir die vliegkaartjie en om aan die lewe te bly terwyl ek in Mali is.” “Hoekom het jy nie eers met my gepraat nie? Weet jy wat my pa se geskiedenis met oom Dawie is? Wat van jou ma?” Was Ben in die son, of bloos hy? “Karen, verskoon my, maar van jou familiedinge kan ek skaars ’n kriesel meer opvreet. Ek dag jy sal bly wees oor die werk, dan het ons minstens vir ’n maand ’n vet inkomste terwyl die mark nog herstel. As ek eers weer in die AngloGoldouens se sak is, kan hier in Suid-Afrika ook nog projekte vir ons kop uitsteek, of waar ook al. Sonder die infrastruktuur van die kantoor om te onderhou, kan ek en Jakob weer iets bymekaar begin maak. Jou pa sal sy geld terughê die oomblik wat ek betaal word.” “Ek weet, Ben, maar ...” Hoe sê sy vir hom met haar senuwees oor haar ma in die huis wil sy nie boonop die wolk van ’n gespanne pa oor haar hê nie? Maar Heleen het haar gewaarsku
oor die knou wat ’n broodwinner se ego kry wanneer hy sy werk verloor. “Natuurlik is ek bly oor die werk, Ben. En ek is bly vir jou ook. Ek kan eintlik nie glo jy gaan Mali toe nie. Dit sou so wonderlik gewees het as ek vir Dominique ook kon stuur om op ’n stukkie van die soutroete te kom. Dit is nogal sy werk om daardie deel op te swot.” Ben sug. “Dis nie ’n land wat hom leen tot alleen reis nie, Karen, selfs al sou jy dit kon bekostig om hom te stuur.” Hy draai om en begin die baba se doek losmaak. Haastig, die sellofaan girts oor die plastiek. “Ek is dan jammer ek het jou pa gevra. Mens se opsies raak min.” Sy slaan haar arms van agter om sy lyf en laat haar kop op sy rug rus. “En ek is jammer ek vlieg nie oor Bamako nie en dat ek so gou moet terug wees, anders kon ek vir jou iets op die mark probeer kry het,” sê Ben skor. “As jou onnosele man se kennis van argitektuur nie by struktuur opgehou het nie, kon hy vir jou daar iets beteken het.”
“Jy moet vir die kind vleissous gee. Vleis is sy pa se gunsteling,” sê Oumu in die deur. Karen kyk verskrik op. O ja, Ben het gesê Oumu kan eerder op Saterdae inkom omdat sy Vrydae na die nuwe moskee om die draai kom en dan by ’n vriendin oorslaap. Dan is dit minder ontwrigtend omdat ’n Saterdag dikwels nie ’n dag vir werk op die rekenaar is nie, en die stofsuier kan dan na willekeur raas. Sy druk eers die teelepel met nuwe oortuiging in die Purity, maar Pikaninie is óf nie honger nie óf nie reg vir groente nie. Teelepeltjies pap sal hy al proe-proe, maar wortels is dalk nog te dik vir ’n daalder. Kyk hoe sit die vlekke al op sy borslap, nog dieper oranje as die kuiken op die prentjie se bek. “Is dit wat julle vir kinders gee al is hulle so klein, Oumu?” “Ek weet nie. Net my susters het kinders. Maar Ben het baie vleis geëet in Mali,
want hy het gesê dis goedkoop.” Oumu sê dit met ’n familiariteit wat Karen se nekhare laat orent staan. Hoekom laat dit haar so ongemaklik voel, omdat sy skuldig is en daarom dieselfde bordjie om Ben se nek wil hang? Pikaninie draai weer sy mondjie weg, en sy laat maar die lepel sak. “My ma sê kinders word groot al word mens moedeloos, Karen.” Oumu staan met groot oë vir haar en kyk. “Sy sê jy moet hulle partymaal los dat hulle self in die sand sit. En wat ’n ma in Mali sê, is ’n groter waarheid as ’n pa se woord. Hare is wet; sy het die laaste sê. Dit kan jy vir enige kind vra.” Karen druk haar lippe op haar baba se wang, draai die fles se deksel op en lek die lepel af. Die wortels is nie lekker nie. Het Oumu oë agter haar kop hier in die huis, of het Ben by haar gekla sy vrou is te oorhoops met die baba? Weet Ben nie hoe selftwyfel mens kan ondermyn nie? Sy verkies die gesprekke waarin Oumu ter wille van die ontwerpprojek oor die boukuns van Mali uitwei. “By ons troon die grootste modderstrukture ter wêreld, en die mooistes, want dit is waar konings hulle paleise sou platslaan om moskees te bou. Dit is ons voete wat die messelklei meng, en ons hande wat die stene maak. En ’n skietlood, dié gebruik ons nie eens vir die allerhoogste mure nie. En die magiese, dit word met net ’n troffel in die donker maag van die gebou vasgemessel.” Oumu staan nader, lig die kind uit die stoeltjie en sit hom op die dik wolmat neer. Toe hy omtuimel, kyk Oumu so verskrik op dat Karen moet begin lag, en Oumu lag skaam saam. As hy sitlê in ’n stoeltjie, beteken dit nie hy is naby self sit nie. “Ek dag Afrikane is aartsmoeders, Oumu,” waag sy dit. Oumu laat ’n skaars glimlag flits. “Die Franse het ook gesê ons swart vroue se breë heupe verken die liefde beter, Karen,” spot sy saam, en skulp haar maer heupe in haar hande. “Of dalk is dit net julle Johannesburg wat die Afrika in my uithol.” Maar om die een of ander rede moet Karen vir dié terugspot ’n glimlag op haar
eie lippe dwing.
“Nee, Karen, ek kan nie uitglip vir koffie nie. Die dames voor sal jou in ’n gaatjie indruk. Ek mis jou al heelweek,” het Michael gesê. Sy was so verlig dat hy dié keer kon terugbel; dit klink asof sy sake tuis nog lol. Maar dit is asof die ontvangs weet dié opvolgbesoek is te gou, soos die ander. Hulle stemtoon sê dit: ’n Toe neus is nie ’n toe bors nie. Brandboudjies is nie ’n bloeiende wond nie. Sy staan besluiteloos. Vandag dien die waterlose seep in die spuithouer teen die muur en die kliniese teëls van die gang tussen die fisioterapeut en die wagkamer nie tot die dubbelsinnige troos van haar kinderjare nie. Waaroor sal sy eendag nie skuldig voel nie? Is dit byvoorbeeld Gauteng se stof en oordaad stuifmeel wat maak dat haar kind se borsie benoud raak? Sy vra dit nie eens vir die fisio nie, dié dink al klaar sy is oorstuur. Dat Michael se mense se ongemak geregverdig is, is so, maar aan die selfsugtige verontregting van ’n tiener kry sy nie ontsnap nie. Net so maklik besluit hulle, soos wat Ben praat van “jou familiedinge”. Sy sweer dit is van al die jare se gees opbind soos ’n Chinees se voete dat sy selfregverdiging tot ’n narsisme vervolmaak het. Haar gedrag is weersinwekkend, maar dan sê die gevaarlike stemmetjie weer dit is haar volwasse reg om ook ’n keer te doen wat bevrydend heerlik is sonder om die hele wêreld in ag te neem. Sonder ter wille wees, sonder opoffering of die sielswroeging van boetedoening. Dit is weer logika en selfbejammering wat bots, nes in haar skooljare. “Onthou, jou talent behoort aan die hele skool,” het die naellooponderwyser in daardie droogte toe sy veertien was gesmeek. Sy sit die drasak neer en SMS Michael net daar in die gang sodat sy nie die ontvangsdames in die oë hoef te kyk nie. Pikaninie slaap vas ná sy behandeling; dit is net sy wat nog bewerig voel.
Haar tydsberekening is perfek. Sy deur swaai oop voor sy die muurpapier in die wagkamer van nader hoef te bestudeer. Die fisioterapeut het weer net tien minute nodig gehad, ’n lewendige entjie mens wat haar genadeloos spot. “Jy kan teen dié tyd maar ophou uitfreak oor my karatehoue op jou breekbare baba se rug, Mamma.” “Babas is soos rubber,” herinner Michael haar op sy beurt, soen haar op haar voorkop en druk haar kop teen sy skouer vas, sommer nog onder Aspoestertjie se pampoen by die deur. “Hierdie man benodig nou al jou aandag.” “Jy vergeet van my familiegeskiedenis,” fluister sy by sy oor. Dit glip sommer so uit, dié beskuldiging. Michael se linkerhand verstil onder die sjiffon. “Ons moet daaroor praat,” sê hy in haar nek, maar toe is al haar knope los en hy buig haar skouers ver terug sodat die bloes afgly. Sy steun net. As sy hom net ’n slag buite die spreekkamer kan kry, as hulle weer soos daardie eerste keer ’n gesprek kan voer wat nie net gesmoord en vinnig en teen die vel is nie. “Karen …” Sy mond, sy hande, sy heupe. Eers vertroostend, toe weer die ademlose drif. Hulle bly regop langs die deur, asof hy haar wil bly omboul met die ongewone. Haar blaaie en lae rug druk teen die koue muur, maar toe hy haar hoendervleis voel, glip sy arms agter om haar. Hy is, soos die vorige kere, elke fisieke gewaarwording van haar een voor. Vuur kan koester, leer sy, dit skroei toe.
Hoofstuk 26
“Hendrik, Karen vra jy moet asseblief die agent wat die strandhuis verhuur, bel voor jy vir die rukkie oor Kersfees en Nuwejaar kom. Sy sou in Januarie ’n bietjie daarheen wou wegglip om aan die projek te werk.” Hy wil oor sy gesig vee, maar onthou betyds die perskesop kleef aan sy hande. “Maar Bertha, sy en Ben het dan nog nooit in die Kaap kom vakansie hou nie. Ek dag hy is op pad Mali toe?” “Ben gaan eers einde Januarie,” sê sy vrou nog sagter. “En sy wil alleen gaan, Pa.” “Wat? Wag net, Bertha.” Hy probeer woel aan sy gehoorstuk, taai vinger en al, maar hy hoor sy praat weer en gee op met die verstelknop. “Hendrik, asseblief. Ek dink hier is net te veel van ’n gerumoer om haar, ek, Jakob en Ben, en nou boonop Oumu Touré op ’n naweek.” “Ouma wie?” “’n Skoonmaker, Hendrik.” “Maar hoe kan jy haar pla, jy is dan heeltyd by Johannes? En ’n gogo wat skoonmaak?” Hy weet nie hoekom Bertha lag kry nie. “Pa, jy weet Karen is haar lewe lank ’n private kind. Sy kry nie haar ding gedoen nie.” Hy gaan sit liewer en kyk na Karen se kindersketse wat nog altyd op die bord bokant die telefoon opgeplak is, asof dit groter begrip sal bring vir wat Bertha vra. “Wie gaan dan na die baba kyk?”
“Sy wil hom saamvat.” Hy bly stil. “Pa?” “Dink jy Suid-Afrika is die soort land waar ’n jong ma en ’n weerlose baba alleen kan reis?” “Hendrik, ek dink nie ons moet in haar pad staan nie; sy vra ons nooit enigiets nie. Die agent hou dan elke jaar by jou aan ons moet kom. Die ergste wat ooit daar gebeur, is dat jou tuinskoene weggedra word as jy dit buite los.” Hy probeer ’n waarskuwingsgeluid maak, maar die te los tande beduiwel sy poging. “En die ontbyt om sewe en badtyd om vyf waaroor jy altyd so te kere gegaan het? Wat van die kind se roetine?” “Moderne ouers lees nie meer Dr. Spock nie, Pa.” Bertha is moedeloos met hom, kan hy hoor. “Ek dink sy moet mooi dink, Ma. Maar ek sal maar bel as jy so graag wil.” “Jy weet hoe goed dit haar destyds gedoen het om ’n bietjie saam met jou uit te kom Karoo toe en Weskus toe, Hendrik.” Toe sy klaar is, sit hy versigtig neer sodat hy nie meer van die instrument as die gehoorstuk besmeer nie. Hel. Hy weet nou nog nie, het Bertha destyds gehoop dié saamryery sal hom nader aan Karen dwing? Dit was seker nogal op ’n manier ’n bietjie wind in hulle albei se hare. Hoe dapper was haar poniestertjie nie altyd om daardie atletiekbaan nie. Die Vader weet vir wat hulle Bertha se erfhuis by die see gehou het – dat sy kollegas moes dink dit was nie uit armoede nie, maar uit keuse dat hulle nie met vakansie gaan nie? Hoeveel keer het hulle die kasarm nie byna verkoop nie, daar was die apteekrekening, en hoe sê mens nee vir ’n broer in die verknorsing? Maar dink aan Karen se studies, het hulle gemeen. Hulle het altyd gedink met haar punte sal sy medies loop. En toe skryf Johannes op die ou end die tjeks wat
wel nodig was uit. Hy gaan was eers die perske van sy hande af en kom vee dan die telefoon en mikkie skoon. Net een keer in al die jare was hulle na daardie huis toe. Hy kan skaars glo dat Karen nou weer wil gaan. Nie eens as student het sy saam met maats ’n voet daar gesit nie. Roux was onregeerbaar. Daar was later oral kos, tot aan die nuwe deurskynende gordyne wat Bertha vir die kombuis saamgeneem het. Hulle moes die hele tyd keer, hy wou net deur toe, uit, maar die wind het onophoudelik gewaai en die reën het in vlae bly kom. Terug in die kombuis wik en weeg hy eers. Sal hy die tweede sakkie vrugte ook nou versnipper of eers die eerste twee potte klaar kook? Laat hy maar sny, dit hou minstens sy hande besig. “My ouma kook konfyt, tjiekelyt.” Hoe haat hy eintlik hoe kinderliedjies kan ondermyn. Een dag het hulle nogtans die strand aangedurf, rolstoel en al. Hulle en die verdwaalde Transvalers op die strand het die yl son afgebid, als verniet. En asof die wind nie genoeg was nie, het die kind gebuk en hande vol sand die lug in geskep. Hy wil nie weet tot waar daar orals korrels was agterna nie. Karen wou water toe vlug, weg van haar tierende boetie. Sy was ’n skamele ses, hy nog nie heeltemal nege nie. Hy kry nie die heel groot pot nie. Waar sou Bertha dit bêre? Nog ’n middelmoot en die kleintjie sal seker maar moet doen. Waartoe verveling ’n man nie alles sal dryf nie. Maar om sy broer só te sien, is erger; hy is bly hy is nie in Pretoria nie. Daardie besoek aan die seehuis was die laaste en seker ’n soort keerpunt vir hulle. Die houer koekies wat Roux boonop in die hande gekry het en die kots tot in die sementvore van die klipvloer, en die onontkombare reuk agterna. Tot hiertoe met normaal probeer voordoen en uitgaan vir langer as ’n halwe dag, behalwe plaas toe, het hy en Bertha vir mekaar gesê. Hulle kon nie wildtuin toe
gaan nie, nie pretpark toe nie en, het dit later geblyk, hulle kon nie eens gaan piekniek hou in die veld nie. Gelukkig was hy by die werk wanneer Bertha moes winkels toe – die hele stapel koffieblikke in die OK onderstebo op die vloer. Tot Deluvia se bek was stil. Nou wil Karen alleen met die baba na dié plek toe neuk. Wat, om weer haar neus teen die groot voorruite te druk, so stoksielalleen met die kind? Ben sê hoeka hy durf nie ’n goedkoper mediese fonds oorweeg nie, want sy is tydig en ontydig by ’n spesialis. Sal sy ooit daar gewerk kry as sy na die baba ook moet omsien? Die eerste pot konfyt prut al hoe hoër en spat al stroop op die plaat. Hy sal daarvan by die ander moet gooi. Kan mens die kooksel afsit as jy eers begin het? Hel, hoekom neuk hy met hierdie goed waarvan hy niks weet nie? En watter worthy het “kook en geniet” in een frase gaan saamgooi? Ben se bloed is darem seker sterker as die Verhoefs of Le Rouxs en Bertha-hulle se sawwe, seker ondertroude Kaapse plasma in die baba se are. Wie weet waar daar dalk ’n oupa was wat ongeag die koste die grond in die familie moes hou. Hoe getrou het Karen Roux nie later op en af voor die groot ruite gestoot nie; dit was al wat hom effens laat bedaar het. En toe hy dood is, haar kinderlike weiering dat die outjie in haar Sondagskoolklas Roux se rolstoel mag leen toe sy been gebreek is, net omdat die kind haar boetie eenmaal gespot het. Hoe weerloos kan ’n kind nie soms wees nie. Sy het nog haar vinger gesny in haar vervaarde poging om meneer Chrissopoulos ná die chaos van die gebreekte Coke-bottel te laat bedaar. Die potte práát. Hy skep die skuim af soos wat hy uit sy kinderjare onthou, maar hy is seker in die moeilikheid. Waar is die gasbottel? Hy kort nog ’n plaat en ’n pot, of hierdie konfyt gaan hom uit die huis kook. Hy het te min arms vir die skep.
Sy laat rinkel die ys in die koeldrank toe Ben omdraai met die grassnyer, al kan hy dit seker nie hoor nie. Hy skakel die masjien af en staan nader, die sweet ’n film oor sy bolyf en aan die drup uit sy hare. “Dankie!” Hy buig oor en maak asof hy haar wil soen, maar toe hy dadelik terugtrek, druk sy tog skuldig haar lippe teen syne. “Is jou vliegtuig nog nie oor nie? Ek dag ek verdien dalk ’n bier,” skimp hy verleë en gooi sy kop agteroor, sy adamsappel aan die dein van die dors. “Die dopstelsel werk nie noord van die Gariep nie,” sê sy, en hy lag, seker verlig dat sy niks oor gisteraand sê nie. Die bure het vir die heel eerste keer gebel oor die rumoer by die braaiplek; hulle het regtig hierdie slag die reël van drie oortree, hy en Jakob. Dié is juis die rooster aan die afspuit en het vroeër ewe bedees die skottelgoedwasser gepak. “Jy lyk al moeg,” steek sy nog ’n olyftak uit. Ben het vroegoggend eers vir haar en toe vir haar ma koffie in die bed gebring, en hy het kop onderstebo in die babakamer se deur met sy skoonma bly praatjies maak. Hy glimlag net, lig sy arms bo sy skouers soos ’n gewigopteller en wil terugdraai na die grassnyer. “Ben, Dominique het met ’n nuwe aanbod gebel. Hy sê hy sal self vir ’n reis Mali toe betaal, maar dan wil hy vyftig persent van die wengeld van die wedstryd hê.” Haar man se hande val moedeloos tot langs sy sye. “En as jy nie wen nie, Karen? Waar kry hy nou skielik die geld vandaan, stop sy arme ma hom al weer uit haar klerewerkerspensioen in? En wie dink jy behoort te gaan as daar enigsins te gane is?” Sy kan hom nie antwoord nie. “En buitendien, die Visi-onderhoud bevestig mos weer, soos jy bly sê, die grootste voordeel wat jy uit die deelname gaan kry, is blootstelling met die oog op toekomstige werk.” Hy loop kopskuddend weg. Verbeel sy haar, of is daar ’n nuwe onsekerheid in sy stap?
Ben bly ’n teddiebeer, al is sy so vies vir hom. Wie ken haar soos hy haar ken? Die stad sal hom ook nog die aardsheid vergewe wat hy nog nie kon afwas nie. Dit was nie vir hom en Jakob lekker om gister in die werkloosheidsfonds se ry te gaan sit nie. Hulle het tot ouerige T-hemde aangetrek om nie so opvallend te wees nie. Sy stap af hek toe om een van die kunstenaar se ranke van ’n reklamepamflet te verlos. Haar maag draai, maar sy het die regte besluit geneem. Dominique bly haar oor die kole haal dat Michael ’n adolessente ontvlugting is. Tot Heleen het al op sy aandrang uit Kiwi-land gebel en saam die Leviete voorgelees: “Hy klink klouerig, Karen, asof hy nooit grootgeword het nie.” Dit sal nie help om te verduidelik wat hy alles sê en bely nie, hoe steels hy sy waardering vir haar naas ’n geterg oor die baba of selfs ’n weggooisin oor sy moeilike grootwordjare kan invleg nie. Sy maak haar oë toe en sien sy blonde hare en sagte oë, sy proe die troos. Dominique moet darem nie sê dit is goedkoop ook nie. Sy moet dit nou stopsit, of haar ou metgesel, die skuld, gaan haar weer bly ophys aan die galgtou van haar gewete. Sy is dit aan Ben verskuldig. Buitendien, hoe jy ook al daarna kyk, en jy kan op jou kop staan, die welgeskape kind kan nooit die verontregte wees nie. Sy sal net weer in die beskuldigdebank staan. Die skaamkry wag. Haar oogpunt is weer nie die oogpunt waaruit die wêreld sal kyk nie. Vra vir haar pa, vra vir Einstein: Dinge is relatief. Wat bly haar lok? Is dit die ligtheid, die ring-a-ring o’ roses van haar en Michael se saamwees? Hy blom oor elke kopknik van haar, hoe subtiel ook al, al floreer sy praktyk. Sy begryp dit nie eens nie, en as sy nie so verlief was nie, was dit seker aardiger. En dan tog weer, die manier waarop hy sy arms vou om ’n te persoonlike vraag te ontwyk – is dit net nog ’n “hard to get” wat deel is van die spel? Al sê die tydskrifte wat, ’n affair gaan nie oor die thrill om nie uitgevang te word nie.
Sy frommel die glanspapier wat Makro se brandewyn besing onder haar arm sodat sy die glas en piering met albei hande kan terugdra. Haar pa het glo die verhuringsagent gebel en sy sal Kaap toe gaan. As sy en Michael net ’n hele naweek saam kan deurbring, nie net gesteelde halfure nie. Deur die dag kan sy aan die vertroue tussen hulle weef. En dan, as hulle ná al die vreugde in die nanag verborgenhede durf deel, kan daardie woorde kom wat haar lippe nog nooit durf vorm het nie. Hy het gesê hulle kan praat. Hy het al die mediese kennis, en in die binnekring van haar familie is hy nie. Dán sal sy haar van hom bekeer. Die naweek sal ’n kentering wees, ’n eie suiweringsritueel, so ná die doop. In haar kop is dit reeds ’n hadj, ’n pelgrimstog na ’n mekka waarvandaan sy, Karen Verhoef, vir eens en vir altyd as ’n bevryde kan terugkeer. Daarna sal sy van alles kan wegstap of wat voorlê tegemoet loop, noem dit wat jy wil. Ja, sy sal.
Hoofstuk 27
“Hoekom sê jou logika vir jou rassisme is so onaanvaarbaar soos snot eet in die openbaar, maar jy krap tog maar skelm in jou neus as niemand kyk nie? Daai soet ontbytpapmelk wat jy agter die yskasdeur uit die bakkie bly drink. En jou jis jeuk mos aljimmers as jy in ’n geselskap is. Mens leer sulke sondes moeilik af.” Sy tafelgenote lag, behalwe sy broer Johannes. “Hendrik!” vermaan Bertha. “Ons is aan tafel.” “Allawêreld, Ben, ons het nou tot die vrouens aan die saampraat om die Kersete. Ons moes hulle nooit op die kansel toegelaat het nie.” Almal lag weer. “Ja, ek sal nog ’n bottel wyn moet kry, Pa, byt net vas.” Tot nou was die gesprek voel-voel, soos honde aan leibande in die botaniese tuin wat eers mekaar se reuk kry. Al het Karen dié keer vir Johannes genooi. En darem vir Rachel ’n bord kos uitgeskep. Sinne oor tuinplante verstrengel met flertse stories waarmee die “huiswerker” uit Mali vir Karen fassineer, soos linkshandigheid wat ’n kruis is, tensy jy hulle soort sangoma is, dan is dit ’n goeie ding, of so iets. Die hemel weet, partykeer moet mens liewer in jou eie hoek sit en spaghetti in tamatiesous uit ’n blik vreet as om óf die gespanne skietstilstand óf die gevegsone van ’n eettafel te betree. Kan die taalwetenskap ooit neig na die suiwerheid van wiskunde? Hy sal moet maak asof daar weer ’n werkswinkel wag voor die studente begin. Net ná Nuwejaar wil hy terug in die Kaap wees, al sê Bertha wat. Johannes breek sy hart. Maar nou olie die wyn die ellipse. En gee net vir ’n blerrie Afrikaner politiek op die bord.
“Wag, Pa, kom ons gaan ’n bietjie terug.” Ben se vurk praat saam. “Ons het gepraat oor omgekeerde rassisme, Pa se kollega Fred het nog daaroor gewonder.” “Ons buurvrou op Stellenbosch vat haar huishulp se kind orals heen dat almal hulle twee hand aan hand moet sien stap. Nou moet die arme kind hoog en droog vir twee ure tussen ’n klomp tantes by ’n stoepkafee sit terwyl hulle vir die eerste twee minute met haar praatjies maak. Is daar roomys wat daarvoor kan opmaak? Ek sweer die arme meisietjie dink al sy gaan ’n diamantéhalsband kry. Is dit nie min of meer wat sy vir jou gesê het nie, Bertha?” Bertha maak net haar oë toe en skud haar kop, sodat die kinders lag. “Is! Ek sweer die buurvrou probeer, tipies Engels, opmaak vir apartheid, maar net op ’n skaal wat haar pas, soos ons almal. Hoekom eet mense in elk geval uit, en hoekom is daar ’n gemorskosplek op elke straathoek? Wat is die sin?” “Genugtig, Pa.” Karen gee vir hom die bak tamatieslaai waarna hy wys. “Ek dag ons is nie meer kwaad vir die Engelse oor die oorlog nie.” “Wat? Ek dink nie ons is meer so bloedkwaad soos met die doringboompiegoed van vergewe en vergeet nie. Daardie pyn is mos eers gekoester asof dit ’n oumagrootjie se karringmelkbeskuitresep uit die wakis is. Tyd genees, maar enige soort herdenking of ding wat jou terugvat, kan ’n roof lekker krap. Al die jare het kinders dan tot met Dingaansfees ruikertjies op die sewe en twintig duisend grafte neergesit. Daarna sing ’n koortjie ‘Kent gij dat volk’ en ’n sopraan verby haar fleur elke hartroerende strofe van ‘O Boereplaas’, famous soetste taal en moederhuis inkluis.” Hy vat eers ’n sluk wyn. “My vuurvreter van ’n ouma, wie se oudste broer ’n Kaapse Rebel geword het toe hy sommer nog nat agter die ore was, het al die jare die duiwel in gebly, en met rede. Vir Paul Kruger ook, omdat sy gedink het hy moes die oorlog gekeer het, maar dis ’n ander storie. ’n Bleddie geskiedenis kan so verwikkeld wees. “Kolonialisme het toe darem ’n skeldwoord geword voor die Empire veel verder kon skade aanrig. En ons kon baie souties hier se arrogansie oor die jare al makker maak van toe af. Hulle was min genoeg. Vir van hulle kan mens nou al skoon ’n sagte plekkie hê, man. Maar gelukkig is my ouma al onder die kluite
dat sy dit nie hoef te hoor nie.” Bertha keer met haar hand by die glas toe Ben weer vir haar wil skink. “Pa, die ander wil ook geselskans kry,” sê sy sag. Maar Ben lag net en skink in elk geval. “Dit is heerlike osbloed wat Pa saamgebring het, dankie. Tot oom Johannes geniet dit, nè, oom?” Ben lig sy glas na die bopunt van die tafel toe. “Geniet dit, ja,” eggo Johannes, en glimlag, al hy het nog nie aan die halwe glas wat Ben vroeër by sy bord neergesit het, geraak nie. Die arme Rachel, eers iewers in Februarie, as sy met rehabilitasie begin, sal hulle presies weet wat die herstelkans is. “Pa, ek en Karen het nogal die ander dag daaroor gesels, daar is mos al hoe meer mense wat aanvoer dis waar apartheid eintlik sy oorsprong kan hê, in reaksie op daai onderdrukking. Net soos xenofobie nou kop uitsteek, amper asof een onreg ’n volgende baar.” “Ja, man, die Zimbabwiërs en Mosambiekers wou mos by ’n suinige man se tafel kom aansit. En mens wil amper simpatie met daai suinigheid hê vir ’n ou wat lank self honger was. Maar soos ons ouens nou sê, die buitelanders vat dan hulle jops, net so het die Duitsers destyds gesê die Jode steel hulle ondernemings.” “Pa weet, Jakob is dit met my eens – hy was mos lank in Duitsland – die geluk is dat die geskiedenis sulke stellings ontbloot vir wat dit is, en dan is dit agterna amper beter dat jy eerder die verontregte is. Soos ons met die Boereoorlog.” Ben vee met sy servet oor sy voorkop. Dit is warm, en die wyn help nie. “Man, my ekskollega waarvan ek netnou gepraat het, beaam morele misstappe, of jy nou as volk of as man oortree het, bly soos ’n ou wat sy vrou verneuk het. Dit gee haar ad infinitum die pantoffel in die hand, pienk en met ’n gat by die Stokie se toon, maar ’n septer.” Karen sit haar messegoed neer en raak vreeslik doenig met haar Krismishoed.
Dit is net sy en Bertha wat die moeite gedoen het om hulle s’n op te hou. “Maar Pa, daar is een ding wat ’n ou soos ek nog moet kleinkry,” sê Ben. “Waar kom Pa se kollega aan sy glyskaal van sosiale oortredings? Bedoel hy die Afrikaner is uit ’n swart oogpunt nie heeltemal so sleg soos die Engelse nie, juis oor Paul Kruger se oorlog?” “Man, Ben, die ou sê dis ’n ding wat party ouens se gewete red. Ek het nie ’n tannie oor haar pers hare gespot nie, ek het net geweier om langs my buurman in die bus te sit, maar jy het die h-woord gaan staan en gebruik. Ek het strooi aangejaag, maar jy het nog groter strooi aangejaag, asof daar ’n soort selfgenoegsaamheid in so ’n verdiskontering lê. Ons in Suid-Afrika het nie ses miljoen Jode lekker laat stort nie, ons koekies seep was net so verbrands glibberig.” Ben trek sy mond. “Maar Pa, selfverontskuldiging is ’n baie gevaarlike soort wiskunde.” “Ja, want waar wil jy begin tel? Soos die stokou gedig dit stel, die duusvolk het die Griekwas se tamaai vet skaap vir koperdraad verruil en vir grond so groot soos ’n beesvel gevra, maar toe die vel in riempies gesny en daarmee gemeet. En dan, as jy tel waarmee jy bedonner is, wat tel jy en wat los jy op dié soort skaal?” Karen en Bertha sug saam-saam, maar Ben is net so opgetjaarts soos hy. “Bedoel Pa as die sonde so groot soos apartheid is, kan niks die oortreder verskoon en jou gewete tot rus laat kom nie? Kan mens nie eens by ’n waarheidskommissie gaan bieg as ’n soort boetedoening nie?” Toe Johannes kliphard nies, stamp Karen haar wyn om van die skrik. “Gelukkig is dit net wittes,” stamel sy, en druk haar servet in die donker plas op die hollytafeldoek. “Ekskuus. Pa wou sê?” Hy vee eers sy mond af. “Man, ek weet nie. Leer mens ooit jou les of sal jy in jou neus bly krap? Kom ’n vegetariër tot bekering as hy sy leerskoene verbrand? Dit sal in elk geval met ’n biegery gaan oor hoe kreatief jy kan lieg: ‘Ek is al ou in die hele Suid-Afrika wat erken dat ek nog steeds HNP stem, Edelagbaart. Ons het darem Tutu-trane weggepink as ons ‘Amakeia’ sing, Edelagbaart.
Hoenderpote en pap vir die tuinwerker terwyl ons tafels onder Egiptiese potte gekreun het, ek weet darem nie, Edelagbaart.’ Nee, hel. En die skuldiges sal wragtig nie aan die pen ry nie. ’n FW de Klerk kon met sy Nobelprys die silwermuntstukke vir dertig advokate neersit. Daar sal g’n Skandinawiese kitty wees vir die huiswerker wie se broer in die vangwa verdwyn het nie.” Ben frommel maar sy servet op. “Pa, so as die ANC ons nie hoef te vergewe nie, of ons dan eers verder moet mak maak, dink Pa die Afrikaner durf homself minstens intussen vergewe?” “Ek weet nie, Ben. Miskien staan jy pa vir jou eie gewete, ek sal daaroor moet dink. Die ou wat benadeel is, weet wat die risiko van weer aanjaag bly – ook, ironies genoeg, vir die betrokke oortreder. Maar is jy regtig jammer, of is jy uitgevang? Is dit so maklik om iemand wat so drooggemaak het tjoeftjaf weer te vertrou, Ben? Vra dít ’n bietjie vir die slimme gansie.”
Hoofstuk 28
Sou Karen-hulle al by die seehuis aangekom het? Mens lees gereeld in die koerant van ’n goedkoop vlug wat weer vertraag is. En hy ken mos hierdie Kaapse paaie, die e, en sy is al meer as tien jaar weg. Hendrik strek eers toe hy styf-styf uit die motor klim. Gelukkig is die padstal al toe vir die dag; niemand sal deur die vensters loer nie. Sal sy dogter en die baba reg wees, so alleen in die huis? Hy moes dit nooit toegelaat het nie. Wat sal Karen al besef van die lyding as mens se kind iets kan oorkom? Al moet hy sy kind net daarteen beskerm. Dis ’n wilde land dié, en hierdie spanning vat ’n ou terug. Die vuurhoutjie vat gelukkig ondanks die wind dadelik vlam en hy trek die eerste teug van die sigaret diep in. Ter wille van die bietjie hitte hou hy die termoskoppie in sy linkerhand. Hy en Bertha het altyd vermoed Roux sou nie agtien haal nie. Miskien was hulle selfs bang dat hulle hom nie voor toe sou verloor nie. So ’n kind, wie sien na hom om wanneer sy ouers nie meer daar is nie? Sy hand wat begin broek toe … Tog, soms was hy gesond; die operasies het ’n mate van verligting gebring. Sy bors het nie altyd toegetrek nie en daar was medikasie wat met hom geakkordeer het. Daar was son op sy gesiggie wanneer hy vir sy sussie kyk, en soms wanneer sy blik op sy ouers geval het ook. En darem partymaal ’n humorsin, al kon dié ook nie regtig uit agter die tralies van ’n beproefde gees nie. Hy voel dieselfde angs om sy keel, en dieselfde vrees in sy bene wat nie eens die geheen-en-weer in die kaal wagkamer van die hospitaal kon besweer nie. Die magteloosheid voor ’n deur wat toe bly. Was die dokter weer nie agtermekaar genoeg nie? Nee. Hy skop na die los klippies onder die stoep se grasafdak. Daarvan moet hy sy gedagtes wegkeer. Soos met die eindelose geduld wat hy voor Karen se
geboorte aan die dag moes lê, die inspuiting ten spyt: Gaan hulle dit maak? Jou vrou, jou kind, jou vrou, jou kind. Daar is geen wegkomkans van dink nie; die een gedagte los nie die volgende af nie. Is dit hierdie ontydige nat weer of sy bestemming wat hom so troosteloos stem? Miskien sal Karen-hulle heeltemal regkom, hy weet nie meer nie. Hy voel oud. Hy ril. Die motreën maak dit koelerig. Hy sluk die laaste koffie, skud die koppie uit en draai dit op die termos vas. Sy stompie gloei rooi op die sement voor hy dit doodtrap, optel en terugklim in die motor. Toemaar, hy sal netnou daar wees, skuins ná donker. Wat presies het Ben gesê? Hy dink iets dryf Karen. Maar hy laat haar maar begaan, want hy is aan die voorberei vir Mali sodat hy sy werk so vinnig as moontlik kan afhandel wanneer hy daar is. Die arme man moet boonop betyds terug wees vir die een of ander verslagvergadering. Vir Bertha het hy sy ryery agter Karen aan verduidelik dat dit is soos met die atletiek, dat hulle saamgepiekel het selfs al het die bus in elk geval Kaap toe geloop. “Ek sal nie in haar pad wees nie, ek sal net miskien die baba vir ’n oggend by haar vat sodat sy kan werk. Ek sal tot in ’n gastehuis gaan oorbly as sy alleen wil sit en gordynkoorde vleg tot watter tyd snags.” Met die wegtrek skrik hy vir die bande se gegly oor die gruis.
Karen kan skaars glo hoe gewoon die huis van buite deur die vlugtige druppels op die voorruit lyk. Haar maag draai toe sy die agent se aanwysings opskeur om dit in die huurmotor se asbakkie te druk. Sy het die man ge-SMS; hy sal enige oomblik hier wees met die sleutel. Sy het haar ingehou en Michael voor Kersfees laas gesien sodat hy behoorlik moes uithonger vir haar geselskap, dat hy nie weer moet verskoning soek – en maak – dat hy heeltyd by die praktyk moet wees nie. En só, het sy gehoop, kan sy haar van hom begin speen vir ná hierdie laaste bymekaar wees waarmee sy
alles wat oud, seer en verkeerd was, en nou is, saam kan begrawe. Dit het sy haarself belowe. Haar huwelik is te kosbaar. As sy net seker kon wees daar is nie ’n gelol van Oumu se kant nie. “Wanneer?” Michael het dit te vinnig gevra, maar die gesprek het geloop soos sy dit beplan het. “Hoekom, sal dit nie lekker wees om saam met my weg te gaan nie?” “Natuurlik sal dit wonderlik wees om saam met jou weg te gaan, Karen.” “Dan sal jy ook vir ’n naweek los wees van die mal praktyk … Ek sien net nie kans om my baba alleen te los nie.” “In my hande sal hy mos ekstra veilig wees, of hoe? Soos sy ma. Ek dink daar is iewers in Januarie ’n kongres in Kaapstad; ek sal dit oor daardie boeg gooi tot my dinge uitgeklaar is.” Sy vingers het vir ’n oomblik stil geword op haar rug en sy oë het weer versober tot ’n gepleit vir begrip. Is Heleen reg oor sy voete van klei? Sy vryf haar hande om te probeer warm word. Vir Dominique het sy gesê sy sal vir twee, drie dae ongesteurd aan die navorsing kan werk, maar haar pel is nie toe nie. “Is dit jou verskoning vir Ben?” het hy gevra, die afkeur ’n lelike keep in sy wang. “Ná die naweek gaan ek die verhouding beëindig, Dommie, ek belowe jou.” “Ja, right.” Op die lughawe het sy vir kookwater by ’n koffiewinkel gevra en die baba gevoer voor sy na Budget toe is. Die vlug was nie vir Pikaninie lekker nie; sy was skoon verlig toe hy met ’n geknakte nekkie in die regop motorstoel aan die slaap raak. En die “dokter het ’n noodoperasie” van sy ontvangsdame wat op haar selfoon gewag het, was allesbehalwe wat sy nodig gehad het. Hoe laat sal hy nou kan wegkom?
Sy draai om na die agtersitplek toe. Hy slaap nog, sy wangetjies rooi van die ekstra truitjie wat sy vir hom aangetrek het. Eendag sal sy nog die dinge leer reg doen. Dat sy op die lughawe van alle mense vir Leoni moes raakloop. Dié was maar skrams-skrams. “Karen. Sjoe, jy het ’n baba.” Haar oë was aan die soek na ’n skeel kyk of ’n oormaat spoeg oor die ken. “Jou ouers is seker baie trots.” Sy kon skaars die woorde saamskraap om na Leoni se ouers uit te vra. Dit was nog in die laerskool dat Leoni eenkeer kom speel het. Hulle was nog klein, maar groot genoeg om te weet wat hulle doen. Miskien weet ’n kind altyd instinktief wat hy doen. Was sy die inisieerder, of Leoni? Sy wens sy kon onthou. Hulle het modderkoekies gebak, en so tussen die verveeld raak met die “meel” aanmaak en die wag dat die son die tweede baksel droog kry, op die idee gekom om vir Rouxtjie te nooi om “saam sjokolade te eet”. Die bakvissiegegiggel oor dié briljantheid kon hulle skaars binnehou. Twee kan mekaar maklik opsteek tot wat een alleen nooit sou gewaag het nie. Haar ma was seker verlig oor dié skielike bemoeienis as daar wel eenmaal in ’n skrikkeljaar ’n maat is toe hulle hom gaan haal. “Moenie vir Ma sê nie, maar vandag mag jy gewone sjokolade kry, Rouxtjie,” het sy hom aangemoedig, en hy het met oorgawe ’n hap gevat, sy vertroue in haar blind en ongeskonde. Hy het lank gekou aan die eerste hap voordat hy gewys het dit is nie lekker nie. Hy hou nie van gewone sjokolade nie, het hy beduie. Die modder het gemeng met die spoeg in sy mondhoeke en gedrup tot op sy borslap. Sy en Leoni het elk die walging in die ander herken en om hulle skaamte te besweer, het hulle traag saam begin knibbel. By die skool het die verleentheid tussen hulle so gegroei dat hulle verlig was toe die groep maats groter word en verdeel.
In die koue motor hardloop daar ’n hasie oor haar graf. Wag Rouxtjie op haar agter die glas hier voor? Die rubber se ongedurigheid, en sy gehuil-skree tot sy gekweel soos ’n voëltjie. Die reuk van braaksel wat agterbly, soos die muf tussen die bladsye van haar King Lear wat die standerdnegekind in die jaar voor haar in die reën vergeet het. ’n Viertrek hou langs hulle stil en die agent klim uit met ’n sambreel om die gestuif van sy bril af te hou. “Staan oom liewer by die baba tot ek klaar afgedra het.” Sy ruik klammigheid en ’n beduidenis van insekdoder toe sy oopsluit. Alles staan halfvreemd, halfbekend, maar kleiner as wat sy onthou. Vir ’n oomblik weifel sy, maar sit toe die rekenaar en boeksak op die eerste die beste tafel neer. Sy haas haar om haar tas en haar kind se kaboedel te kry. “Ek en my vrou ry netnou na my dogter op die plaas, maar ons is môre terug as jy iets nodig het,” groet die man. “Ons het gister alles weer skoongemaak en oopgegooi, so dit sal nie lank neem vir die huis om uit te vars nie.” Toe sy die slapende baba op die divan neersit, word hy wakker en begin huil. “Is dit die vreemde omgewing, my liefding?” Hy raak stil toe sy hom optel, sodat sy met hom op die heup haar boeke uitpak en regsit. Al kry sy net ter wille van haar gewete ’n bietjie werk gedoen. En sy is bly sy het die knorrie in Johannesburg gebad as hy nie nou lekker voel nie. Is sy koppie warm? Michael sal kan help as hy kom. Hy bly kla, en kort voor lank huil hy weer. Melk wil hy nie hê nie, en sy kry met moeite Panadostroop in sy keeltjie af, want hy skree blou moord as sy hom neerlê. Hoor en sien vergaan terwyl sy sy doek ruil en ’n setpil inwurm. Sy stemmetjie word mettertyd ’n geweeklaag.
Deur die groot vensters hang die wolke in die sterk skemer al hoe laer en donkerder. Sy moet ’n lig aansit; sy kan skaars nog die vloerklippatrone en die geelgebleikte bedsprei oor die divan uitmaak. Hoe sal sy weet of hy regtig nou al die antibiotika wat sy saamgebring het nodig het? Haar maag kramp al van senuwees. Sy moet haar nie bekommer nie. Wanneer Michael kom, sal hulle ’n gesin uit ’n margarienadvertensie wees. “Sjuut, sjuut, my skapie.” Toe tref dit haar: Sy sal nooit ’n foto van Michael hê nie. Soos haar kinderjare, sal dele van die laaste tyd van haar lewe nie op beeld vasgelê wees nie. Daar was net daardie een foto in die gang, waar net kuiermense wat oorgebly het dit kon sien. En die onherkenbaar klein gesigte van die atletiekspan weggesteek in haar My Skoolloopbaan. Miskien sal dit goed wees dat die twee geskiedenisse dan so in mekaar vervaag. As Dominique net nie reg is dat sy ewe moeilik van Michael af gaan wegstap nie.
Hoofstuk 29
Pikaninie huil hartverskeurend. Hoe Karen hom ook al skommel en liefkoos, niks wil sy trane laat ophou nie. Dit lyk ook nie asof die setpil die koors breek nie. Wanneer kom Michael? Sy foon is af. Is hy nog op ’n vlug of is hy naby en daar is net nie ontvangs nie? Hy moet naby wees. Sy loop op en af voor die groot ruite, sus haar baba se lyfie en bly die bottel in sy mondjie druk, maar hy wil niks weet nie, die melk sit wit op sy pruillippies. As sy die melk in sy keel probeer spuit, braak hy dit uit. As ’n kind honger is, sal hy mos eet, of hoe? “Slaap my kindjie, slaap sag, onder rose vannag.” Sy weet later nie of sy die wiegeliedjies vir hom of vir haarself sing nie. Hy steur hom ewe min aan die ou meesters en Afrika se belofte van soet pap. Dit is nie die doek nie, loer sy. Sy lig hom teen haar skouer en klop lank op sy ruggie. Dit is nie ’n wind nie. Hy het koors, maar sy kan seker nie die kind bly Panadostroop voer nie? As Michael net wil kom. Waar bly hy? Sy het al vergeet hoe die Kaapse reën teen ruite vaswaai en terugtrek, vaswaai en terugtrek. Deur hierdie ding moet sy net kom. As kind het sy geleer mens kom reg. Maar Pikaninie se stemmetjie raak al hees. Daar moet ’n manier weer waarop sy hom kan troos. Sy moet nou sorg. Kan ’n baba iets oorkom as hy so huil? Hoe vinnig kan hy dehidreer as hy weier om te drink? Michael moes lankal hier gewees het. Op watter vlug sou hy gekom het? Sy
selfoon bly op voicemail. Sy gaan dit nie maak nie. Hierdie kind se stem is ’n aanklag. Sy hoor Rouxtjie al, die huidjiehu van sy aanhoudende geroep. Wil die kind haar toets, soos Rouxtjie haar getoets het, bly toets het? Haar oë soek deur die vensters die nag in, maar sy sien niks. Waar bly Michael! Die hospitaalsuster van die tekening se nommer is mos nog op haar selfoon – onder Nel, of Suster. Dié vrou sal weet. Maar die foon lui net totdat sy ’n boodskap kan los. Sy hoop die suster kan haar vrae deur die baba se gehuil hoor. As sy hom neersit, snak hy uitasem. En skree soos hy huil. Sy kan hom nie troos nie. Sy wieg en loop, wieg en loop, maar die vrees bly haar maag op ’n knop trek. Toe haar foon bliep-bliep, kan sy nie vinnig genoeg die SMS oopmaak nie: As hy op die vliegtuig begin kla het en glad nie wil lê nie, kan dit sy ore wees – báie pynlik. Het jy ’n algemene antibiotika? Sy pluk die bottel uit die dosie verby die baba se lyfie, maar sy kry nie die prop gedraai nie. Hierdie metaalhingsels waarmee hulle die goed dig hou, sit soos nete. Die nat vadoek wat sy in die kombuis probeer, help ook nie. Hoe gaan sy dit afkry! Sy sal die veiligheidsmeganisme moet lossny. Toe sy die baba neersit, gaan hy weer histeries aan die skree. In die boonste laai kry sy ’n lang mes; die staal blink in die buislig toe sy hom uithaal. “Dwa-dwa-dwa-dwa!” Sy skrik haar lam. Iemand gaan die kombuisvenster uit die raam slaan. Sy kyk af na die mes in haar hand en vat dit vaster. Sal sy haar kan teësit? Haar baba! Maar toe hol ’n skadu om, agterdeur toe, en sy hoor ’n dowwe “Karen!” deur die
hout. Dit moet Michael wees! Sy ruk die deur oop, oorstelp, maar dit is nie Michael wat haar om die arms vaspen nie. “Pa!” “Karen, wat maak jy met die mes!” Hy is spierwit en sy oë pierings in sy kop. “Pa, wat maak Pa hier?” “Sit neer die mes!” “Pa, hoe durf jy! O God!” Sy laat die mes met ’n gekletter val, en haar pa strompel na die baba op die kombuistafel. Dié skree nou éérs. “Wat maak jy met die kind?” skree haar pa, buite homself. “Ek probeer sy medisynebottel oopkry,” fluister sy, en tas duiselig na die kosyn. Haar pa raap die baba op en kry die bottel beet. Die prop glip af. Hy pluk nog ’n laai oop, gryp ’n lepel uit en tiep die stroop in die baba se keeltjie af. “Pa.” Sy staan weg van die kosyn. “Hoe durf jy? Hoe durf jy ons bekruip soos ’n dief en hier inkom?” “’n Dief?” herhaal hy stadig, kalmer, soos een wat nie begryp nie. Hy kyk af, sy oë gaan oor die mes op die vloer, na die baba, en na die medisynebottel. “Karen, raak rustig. Ek was bekommerd oor julle veiligheid,” paai hy, sy oë op die baba. Dié het vir ’n oomblik sy huil weggeskrik, maar gee weer ’n snik en begin kliphard huil. “Hoekom, Pa? Hoe durf jy? Jy van alle mense, en ek dag al die jare …” ’n Snik ruk deur haar, maar sy sluk dit weg. Sy storm op haar pa af, haal diep asem, vat haar kind uit sy arms en druk hom teen haar bors, soos ’n skild. Haar pa staan vanself ’n tree terug. “Wat wou jy hê moes ek doen? My dogter en haar baba alleen in ’n huis op ’n
gehuggie ...” “Hoekom is jy nou skielik begaan? Nou, ná al die jare. Dis twak. Sy … Ma … julle … julle vertrou my nie. Gaan weg. Julle vertrou my met niks nie. Nie toe nie en nie nou nie. Dis die mes, dis presies dieselfde ou storie. Loop.” Hy moet nou weg, of sy gaan huil. “Karen, ek het jou laat skrik.” Sy kyk af na haar baba, na sy toegeknypte ogies, na hoe hy snak na nog asem vir skree. “Pa, ek wil hê jy moet ry.” “Die donker nag in, in die reën?” “Ja.” “Jy oorreageer, Karen. Ek kom hier aan met ’n baba wat skree dat die berge antwoord gee. Ek het my koud geskrik.” Haar oë soek vervaard langs die klipvore langs. “En dadelik gedink ek doen die kind iets aan.” “Karen, nou is jy onregverdig.” “Is ek, Pa? Hoe durf julle, van alle mense, van onregverdig praat?” Hy staar haar net aan, gekwets, sy uitdrukking iewers tussen seerkry en verbystering. “Wil jy regtig hê ek moet ry?” Sy kyk liewer weer af. “Ja. Ek het tyd vir myself nodig, en julle besef dit nie. Ek het verby twee gastehuise in die dorp gery.” Sy sê dit sag, dat hy moet glo sy het kalmeer. “Mag ek môre met jou kom praat? Ek wou net na my kleinkind kyk dat jy kon werk.”
Sy skud haar kop totdat sy kan praat. “Nee. Moenie. Asseblief. Hier kom iemand uit die Kaap na my toe – oor my projek. As julle wil praat … kom haal vir Ma in Johannesburg.”
Hoofstuk 30
“Karen sê ons sê sy het Roux doodgemaak, Ma. Toe ek daar aankom, het ek Karen deur die venster met jou ma se blinkhefmes in die hand sien staan en my lam geskrik … Die baba het blou moord geskree …” Hy bly so lank stil dat Bertha hom help: “En toe dink sy jy dink …” “Nee, Bertha, ek het dit gedink.” Sy trek haar asem skerp in. “My kop … vir ’n breukdeel … Dis eers toe ek die medisynebottel sien wat sy wou oopkry … Maak dit van ons slegte mense?” wroeg hy dit uit. Koue sweet slaan oor sy lyf uit, in sy hare, oor sy arms en maak straaltjies langs sy bene af. “Ons sal met die kind moet praat, Bertha.” Sy stem slaan deur. Hy lig sy kop halfverdwaas, snak na asem en hou die mondstuk toe. Net betyds dat Bertha nie verder moet hoor nie druk hy die mikkie dood, dat dié verleentheid hom minstens gespaar bly.
Toe sy die voordeur oopmaak, staan Ben met sy hande op Oumu se skouers asof hy haar probeer wegkeer van hom af, en ’n frons sny sy voorkop in twee. “Dis my ma, Ben!” roep Oumu. “My ma. Ek moet saam met jou teruggaan. Jy moet my help.” Die statige vrou staan en slaan met haar palms op Ben se bors, en uit die hoek van haar oog glip ’n traan. Ben moes pas ingekom het; hy het sy fietsrybroek aan en sy slape en hemp is nog papnat gesweet.
Die stofsuier lê op sy maag op die sitkamervloer, die pyp ’n slang tussen die mat se lang wolvesels. Dit is Saterdag, en Oumu is op haar pos. Wat gaan hier aan? Eers lyk Ben uit die veld geslaan om haar en Pikaninie te sien. Maar al sy irritasie met Oumu is in sy stem toe hy sy rug op dié draai: “Karen? Wat maak jy nou al hier? Hoe het jy hier gekom?” “’n Taxi.” Sy laat val haar rekenaarsak en druk die slapende baba hoër in die drasak. Die wêreld se moegheid oorval haar. “Jou sel het gister om middernag na die huisfoon toe deurgeskakel. Dit was die pediater om te hoor of ‘Karentjie’ reggekom het met die antibiotika?” Sy verbleek. Nou is sy eers bly sy het haar vroegoggend al uit die voete gemaak. Sy het eintlik gehoop die dokter daag voor dooiemansdeur op met net die brekende branders as antwoord, sou hy by die voordeur roep. Die motor was al gelaai toe Pikaninie uiteindelik die antibiotika en susmiddel uitgeslaap het. Het Oumu se ma iets oorgekom, en wat het dit met Ben te doen? Maar dit is die laaste ding waarvoor sy nou krag het, om te wil sin maak van dié drama in die kleine. Pikaninie sal dieper slaap op sy bedjie. “Kry asseblief ons baba se goed by die hek voor die hond dit opvreet, Ben.” Sy klou aan die trapreling, ingeval haar bene haar nie boontoe kan dra nie.
Die hele dag al kyk hy vir sy sigaret se kooltjie, en vir die rooi syfers van die elektroniese horlosie langs hom, vasgevang soos ’n haas in ’n skietlamp. Hy het die gordyne toegetrek. En te hel met buite rook; hy sal alles uitvars lank voor Bertha terugkom. Slaap sal hy nie, al het hy die hele nag regop in die motor bly sit, kykafstand van die strandhuis af. Toe hy Karen ligdag sien vertrek, het hy hom skaars gemaak en liewer eers ’n halfuur ná haar gery sodat sy hom nie in haar truspieël moes opmerk nie. Hier sit hy nou.
Hulle hoef hom nooit in ’n strafkamp op te sluit nie. Hy kan sy eie hel skep. Teleurstelling stu uit die maag, van selfveragting tot ’n magteloosheid wat mens verlam. En, weet hy uit bloeddure ondervinding, dan kom verwyt se kettings en kluister jou aan die klam mure van ’n Middeleeuse tronk. Hoe hy sy gedagtes ook al probeer orden, wat hy geskree het, bly yswater in sy gesig telkens as sy gedagtes se bakkiespomp sy draai maak. Here, nie dit ook nie. ’n Nuwe trapmeul vir moes, kon, wou, sou. Die gang van jou gedink begin ossilleer, maar die golwe verloor geen energie nie; elke lus voed die volgende. Net een keer in die meedoënlose sirkelgang van destyds se denke het hy na die oppervlak probeer swem en in sy nood in Bertha se oor gefluister: “Dink jy nie Karen kon Roux gouer gehelp het nie?” Nooit vantevore, en nog nooit weer daarna, het hy so ’n bloedstollende kilte in ’n mens se oë gesien nie. Daardie een sinnetjie het sy vrou momenteel uit haar smart geruk en sy het afgemete, skaars hoorbaar vir hom gefluister: “Dit sal die einde wees as jy so dink.” En die leë geelrysbakke wat die kerkmense nog moes terugkry net daar in die opwaswater gelos. Hy het hom koud geskrik vir haar ingehoue drif. Mens kan ’n leeftyd daaraan wy om ’n gebeurde uit te wis, en dan, in ’n oogwink, is daardie smart, daardie wroeging, weer douhelder. Die wakker skrik en die weet was destyds een, en die doodswaarheid oombliklik in elke ledemaat. Met soveel toewyding het hy daardie dag probeer uitvee, en nou, meer as vyftien jaar later, loei die ambulans verby hulle, sien hy Karen se gesig, haar gesperde skok, en die paramedici se arms wat gryp na Roux. Die geloei verstil, want die gesuis in jou kop doof alles uit. Die Here weet hoe die kind op sy eie daardie stywe boonste laai in die kombuis oopgekry het om die vleismes uit te haal, en hoekom hy ’n vlegbrood wat hy kon breek, wou sny. Die een middag wat Karen Roux alleen moes oppas, het daardie mes geglip en deur ’n slagaar gegly. Toe was dit die angs in die hospitaal en die dokter wat spierwit om die kiewe en kop omlaag kom sê: “Jou kind is dood.” Hoekom? Is daar nog ’n woord wat so kan smag na die terugdraai van ’n
horlosie? Dit word die dinamo waarin beskuldiging en teenbeskuldiging mekaar bly opwek, ’n wisselstroom sonder end. Wat sal mens gee om in jou kind se plek te wees? Selfs jou halwe kind. Watter kosbaarheid sal jy nie verruil nie? Voortande, ’n ledemaat, ’n nier. Agterna het hy die kombuisvloer skoongemaak om Bertha dit te spaar. Alles het voor sy geestesoog bly afspeel soos die stadige aksie van ’n koppie melk wat Roux laat omtiep en wat met sy oor eerste op die eetkamervloer se koue teëls aan skerwe spat. Al wat in die lug bly huiwer het, was die reuk van die rooi water in die emmer soos wat hy op sy knieë die vadoek bruinerig uitgedroog het, eers die groot plas en toe die see van voetspore, die hemoglobien wat in rubbersoolstrepe gestol het en in die suigkolle van iemand se plakkies – soos Pompeji se laaste, angstige getrap van sandale. Daardie herfs spoel deur hom. Die skok, die ongeloof, die seer. Soos suur aan vrot metaal vreet dit elke dag aan jou, sonder ophou. Dit vreet aan jou vleis, jou murg, jou bene, stelselmatig, totdat jy sweer al wat oor is, is die fyn net senuweetentakels wat die pyn dra. Geen stem of ritseling wat deur stilte en donker dring. Iewers in die hemelruim is die maan op sy sirkelgang, dit sê jou verstand vir jou, maar hier voor jou kan jy jou hand nie sien nie. Iets moet jou rig uit die smart waarin jy bly water trap, maar die strome bly met die reëlmaat van getye oor jou kop spoel. Psalm 90 se “som van droewe dae en nagte”. Nog altyd die Totius-beryming. Hy wou so graag glo sy vrou se onwrikbare geloof in Karen se onskuld het hom bevry. Weer flits die beelde klinkklaar: die rooi sirene, die witgeskrikte kind, die stink water. Die herfs in die berke, die eerste reën se druppels swanger vir val van die takke en die nat reuk van al daardie berge mis uit Dawie se voerkraal wat Bertha in die tuin begin spit het.
In die kombuis. Dat dit in die kombuis moes wees, nie ’n kamer wat kan toestaan of iets draaglikers en uit die oog soos ’n spens nie. Kon óf Karen óf Bertha dit ooit weer regkry om oor daardie grys teëls te loop sonder om die bloed daarop afgeëts te sien? Hy kon nie.
Hoofstuk 31
“Ek wil Mali toe gaan, Ben. En gou ook.” Karen lig Pikaninie effens en skuif haar voet onder haar in op die leunstoel. Ben het nog skaars in die slaapkamerdeur kom staan, en soos sy gedink het, kan sy sien dié nuus het hom skoon van sy wysie af. Hy steek halfpad vas in sy poging om sy hemp af te stroop. “Hemel, Karen, ek dag dan Dominique is op pad soontoe?” “Jy het mos self gesê dis regverdiger as ek gaan. En ek weet dis my eie skuld, maar my vertroue in sy huiswerk is aan die wankel.” “Karen, is jy ernstig? Wil jy nou gaan, terwyl ek ook daar is? Hoekom wil die hele wêreld skielik in Mali wees? Wat van ons kind? Jou ma kyk dan klaar na oom Johannes. Tot gister kon ons jou pa opgekommandeer het om terug te kom Johannesburg toe, maar nou hoor ek by jou ma die departementshoof het hom vanmiddag gevra om ’n M-studentjie op pad na ’n voorlegging in Duitsland se hand vas te hou – die res van die departement is nog met vakansie. Jy kan hom glo met ’n veer omtik. En jy kan dink hoe lekker jaloers Jakob daarop gaan wees; ek dink hy brand om weer sy Oktoberfest-pelle te sien.” Ben meet haar reguit blik en skud sy kop ongelowig. Sy skouer bly teen die kosyn hang, asof hy aarsel om die kamer binne te kom. “Wil jy hê ek moet jou ma vra of sy na klein Jakob sal kom kyk en oom Johannes se versorging in die tehuis se hande wil laat?” vra hy sag. “En terloops, jou ma klink nie lekker oor jou pa nie. Is iets fout?” Sy streel oor Pikaninie se koppie. “Ons kind gaan saam.” “Karen, is al jou varkies op hok? Jy het vergeet van malaria, en hy sal gans te
klein vir ’n geelkoorsinspuiting wees.” “Oor tien dae is hy ses maande en dan mag hy een kry. En ek sal hom tweeuurliks in Tabard bad.” Ben skud sy kop en vou sy arms. “Ek weet die afgelope dag was hel, Ben, maar ek weet nie of ek kans sien om sonder ons kind te wees en of ek hom vir een oomblik onder my oë wil uitlaat nie. Veral nie ná wat gebeur het nie. Ek kan dink my pa …” Sy sluk eers. “Dit is so, Ben, dit kan mal klink om ’n baba op so ’n reis saam te neem, maar wat is die alternatief? Sal dit regverdig wees om so ’n klein babatjie vir so lank sonder sy ma en sy pa te los, al is die oper wie? En jy sal binne trefafstand wees.” Buite blaf die hond al weer asof hy speel, sodat sy weer stilbly. “Jy sal my nie glo nie, of dalk sal jy, Ben: Dominique het die afsnydatum vir die inskrywing heeltemal verkeerd gehad. Ek het hom met die terugkom op die lughawe gekry – hy het op baie kort kennisgewing gehoor hy moet dadelik in die Kaap wees. Ek moes my nooit net op hom verlaat het nie. En die ergste is, hy sê nogal self graag hoe naïef ek kan wees. Die kompetisie sluit al 1 April, nie 1 Junie nie. As ek gaan en die hotelle waarvan Oumu vertel, kan besoek, kan ek dalk betyds met die voorlegging klaarkry. Dominique is in elk geval nou eers in die Kaap vir twee weke om sy oom te help. Maar dalk gaan dit ook oor die halsbandjie van die oom se verbintenisse vir ander werk, wat ek kan verstaan. Net nie nou nie, en ek wil ook nie vir hom wag nie. Die tyd loop uit. Ek het gedink die projek sal vir hom ’n prioriteit wees as hy op dié vlak inkom en in die publisiteit wil deel.” Ben vryf oor sy voorkop. “Het jy hom ’n bietjie aangepraat?” “Ek het so iets laat val, in die mate dat ek dit oor my hart kon kry, dat hy eerder oop kaarte moes gespeel het oor die katalogus. Dominique was darem al vir my baie goed ook. En ek het gesê net vyftien persent is syne as daar ooit ’n kopknik met die wedstryd is.” “Karen, miskien is verstrooidheid in só ’n geval erger as naïwiteit, as jy ooit naïef is. Miskien verwys Dominique na jou beheptheid met die romantiek, waarsonder jy in elk geval nie sou kon doen wat jy doen nie. Maar dit bly waansin. Jy kan nie klein Jakob saamvat nie.”
Sy voel die skuld en die trane saam agter in haar keel prik. Hier voor haar staan die ou Ben. Moet sy nou met die hele sak patats oor die Kaaptoeganery vorendag kom, of wag tot al die stof gaan lê het dat Ben haar waarlik kan glo al die bog met die dokter is verby? Wanneer haar optrede bewys kan wees van haar skulderkenning en alles nie net ’n leë gebieg sal wees omdat sy uitgevang is nie? Maar logika ontwyk haar, al wat in haar kop bly maal, is daardie huis, die mes se getril oor die vloer, haar pa, Rouxtjie. Die koue rilling wat deur haar gaan, laat Pikaninie se ogies oopvlieg. Sy begin hom weer saggies wieg. “Karen?” Ben moet sien iets is nie lekker nie, en sy weet nie waar om te kyk nie. “Ek sal jou nog eendag vertel net hoe lojaal Dominique teenoor jou is, Ben. Maar ek is jammer, ek gaan nie sonder my kind nie, en ek sal hom met my lewe beskerm, dit weet jy. En jy sê dan altyd Mali is veiliger as Suid-Afrika. Ek weet nie meer of hierdie projek my kan red nie, maar in die blinde desperaatheid wat ek voel, wil ek liewer weer die werkesel wees wat oë toeknyp en alles probeer wat ek kan om dit te laat slaag. Ter wille van baie dinge.” Sy kyk af na haar seun en druk haar lippe teen sy koppie. Dit is asof Ben haar gedagtes lees, want hy tuimel sy kop kant toe in ’n vraag. “As die projek dan so alles is, hoekom het jy jou Design Bible hier gelos toe jy Kaap toe is?” Hy moet sien hoe sy skrik, want hy lig sy wenkbroue soos vir een wat op heter daad betrap is. “Krap jy in my goed, Ben?” Sy is self ontstig oor die beskuldiging. “Hemel, Karen.” Hy maak hom ergerlik uit die deurraam los. “Ek wou kyk of daar dalk ’n nota of iets oor vluginligting vir Dominique lê. Oumu se ma lê op sterwe en sy wil met alle geweld saam met my Mali toe gaan. Maar ek kan haar nie daar kry binne die ses weke wat die Franse dokter haar ma gegee het nie; ek gaan weste toe en ek kan dan nie eens vir Jakob saamvat nie. En nou wil julle ook gaan.” Ben kom sit regoor haar op die punt van die bed. “Wat is die pediater se storie met die antibiotika?”
Sy slaan haar oë af en staan op om die baba op die dubbelbed neer te sit, met groot kussings weerskant. Hier staan sy, uitgevang, soos wat sy nog altyd moes wees. Straf sal sowaar ’n troos wees, en die sambok ’n teenvoeter van die skuld, die joernaalinskrywing. Ben kyk om en sy gaan sit weer op die stoel. “Ek het ge-SMS vir raad omdat Pikaninie nie wou ophou huil nie. Sy ontvangsdame het laat weet hy is besig met ’n noodoperasie, en ek het gedink hy sal van hom laat hoor wanneer hy uit die teater kom.” “En toe bel hy sowaar om middernag? Is hy baie caring?” “Caring?” Sy snuif. “Allermins.” Ben bly net stil, sodat sy van senuwees verder praat. “As ek in sy spreekkamer onder die wanindruk gekom het hy is die prins wat die swaard wat nog altyd oor my en my gesin gehang het, kon lig, het ek ’n liederlike fout gemaak, Ben. Op prinse kan mens inderdaad nie vertrou nie.” Haar man se oë knip nie eens nie. Het sy al ooit so weerloos gevoel? “Wat sê jy nou eintlik, Karen?” “Ek sê vir jou dat ek somtyds dink daar is geen einde aan die foute wat ek kan maak nie, Ben. Daar was Rouxtjie, en nou byna my eie kind. My Kaap toe gaan was ’n gejaag na wind …” Haar woorde droog op, maar Ben se blik wyk nie ’n aks nie. Sy wil vir hom vertel wat gebeur het, maar die moed ontbreek haar. Sy kan nie nou nie, nie ná gisteraand nie. “Ek het nie besef sy ore het begin pyn op die vliegtuig nie,” fluister sy. Hy het toe gisteraand ’n vreeslike koors gekry en … en toe kry ek nie die antibiotika oop nie.” Sy maak haar oë toe. Die beeld van haar pa in die kombuis doem weer voor haar op, sy afgryse, en hoe oud hy skielik was. Miskien sal sy vir haar straf nou weer nag vir nag veertien wees, en sowaar terug in nog ’n kombuis. “Maar jy het op die ou end reggekom?” vra Ben onseker. Sy maak haar oë stadig oop. “Ben, jy wil nie die hele storie hoor nie.” Haar keel trek so toe dat sy skaars die woorde uitkry.
“Karen, wat gaan aan? Wat het gebeur?” “Ek sal nog vir jou alles vertel, Ben. Ná Mali. Maar nie nou nie. Ek wens eerder jy was reg, maar ek was toe al die jare reg oor my ouers,” pleit sy skor. “My pa het daar aangekom toe Pikaninie op sy hardste huil. Die geluide, die naar, die Jeyes Fluid van daardie huis. Weet jy hoeveel keer in een nag dieselfde tafereel voor jou oë kan afspeel? My pa-hulle … nie net my ma nie. Ek weet nou hy het my ook al die jare vir Rouxtjie se dood verwyt. Bitterlik verwyt. Hulle … hulle dink dalk selfs ek het hom doodgemaak.” Haar stem is so laag dat sy haarself skaars kan hoor, maar sy sien hoe Ben se gesig versag. Hy vat eers net haar hand, asof hy nog vies is, maar toe druk hy dit tog teen sy lippe. Haar bors begin dein, haar hart klop al hoe vinniger en haar oë begin brand. Ben lyk eers uit die veld geslaan, maar trek haar tog na hom toe en hou haar vas. Sy wil haar eers teësit, vir hom sê hy moet haar aan haar lot oorlaat, sy is sy jammerte nie waardig nie, sy sal dit nooit waardig wees nie. Toe het die twee geskiedenisse sowaar een geword, maar allermins soos wat sy voorsien het. Dit is sy soen in haar hare wat die damwal laat breek. Sy vee nie ’n traan af soos al daardie jare onder die bed nie, en sy ween nie soos op die begrafnis agter haar pa se blad nie. Sy huil soos ’n kind.
Hoofstuk 32
Die buurvrou sal die antwoord wees oor borsvoeding. As mens ’n blou koek kan bak, sal jy alles weet van voedingsbra’s en die raad van koolblare. Karen kyk weer na die lysie en maak nog krulle om die muskietmiddel se letters. Dit is darem snaaks hoe ’n saamvatlys kan vermenigvuldig met ’n baba. As die waentjie moet bly, moet dit maar bly, maar die motorstoeltjie moet in. Bang soos sy is vir borsvoeding, sy is banger vir Mali, vir dorpies sonder ’n mikrogolfoond of geredelik beskikbare kookwater vir die bottels. Of kyk sy Afrika voor die kop? Maar dit is haar kind, sy sal dit liewer na die veiliger kant toe waag. Sy wag net vir die streng suster om terug te SMS. Michael se boodskap flits weer voor haar geestesoog: Ek wou hê die droom moet aanhou. Ek het gedink jy sal begrip hê vir ’n noodprosedure? Besef jy nie dat ons mekaar al hoe nodiger het nie? Sy wou dit nie uitvee nie. Maar as dit ’n ses uur lange opehartoperasie op ’n agt weke oue baba was, sou dit op die nuus gewees het. “O, die ladies’ man?” het die reisarts geantwoord toe sy moes sê wie die baba se pediater is. Dit is goed dat sy die wye wêreld invaar, vir haar projek, en om weg te kom, net om weg te kom. In hierdie wedstryd moet sy nou alles pomp wat sy maar kan. Daar is geen ander genade nie. Sy weet van knieë en elmboë bly lig al dink mens daar is nie meer ’n druppel energie oor nie. Sy kan dit nie glo nie. Ben het sy oë toegeknyp en by sy ma geld geleen sodat Oumu saam met haar en die baba kan gaan. Dit moes hom bloedsweet gekos het, die koshuiskind wat liewer ’n duisend dode sou sterf voor hy moes plaas toe bel om sy ma met iets te beslommer.
“My ma moes beeste dip, Karen, sy het nie tyd gehad vir blindederms nie,” het hy al hoeveel keer vir haar gesê. Of dalk kry hy net nie die weldoener in hom dood nie. Heleen noem dit daardie onbewuste opmaak vir die wêreld wat nog uit sy jong jare kom, om die pyn om hom minder te kry, want in sy kindergemoed was hy dalk daaraan aandadig. Nou kan Oumu sowaar self vir haar die weefwerk wys waarop sy haar so beterweterig roem, wat sy so mor-mor optel om die agterkant van te bestudeer. Die tenger vrou het toe op die ou end ook nie verniet ’n bestuurderslisensie in Rusland gekry nadat sy al van sestien af in stofstrate motorfiets gery het nie. Sy beter met so ’n waardevolle vrag mooi ry oor die slaggate wat wag. “Maar die hemel hoor my, Karen,” het Ben tog gesê, “ek weet julle gaan nie so ver oos as die Sahara reis nie, maar as ek jou op enige plek in Mali bel en sê jy moet terugdraai, moet jy dadelik omsit. Die buitelandse maatskappye weet as daar Toeareg-spanning kom, en dan is dit nie die Westerse ambassades se senuwees oor boggherol nie. Ek weet Mali is ’n veilige land, veiliger as hier solank jy sentraal bly, maar as jy of my kind iets moet oorkom, sal ek dit nie maak nie.” Nou moet haar niggie Lenie by binnelandse sake net haar toue getrek kry met die baba se paspoort. Toe suster Nel se SMS deurkom, bid sy vir nog ’n genadige antwoord. Om net twee weke ná die baba se geboorte te begin borsvoed, sal al sukkel. Om ses maande later te probeer, sal ’n Huisgenoot-storie wees. Jammer. Sy laat haar kop in haar hande sak. Ter wille van haar kind sal sy so berekend soos ’n weermag vir ’n operasie moet inpak. Ben kan lekker praat oor hoe broodnodig die plattelandse kinders van Mali penne het en hoe skaars papier daar is, maar die Vader weet, al moet haar kamera bly, sy sal genoeg Milton, poeiermelk en Purity inpak om enige immigrasiebeampte histeries te kry. En ’n muskietnet so groot soos ’n rugbyveld, as dit moet.
“Ons wil twee kleurfoto’s hê,” sê die vrou agter die hortjies weer, en stadiger, asof Karen swak van begrip is. “Van die baba ook.”
Nou ja, met iemand by ’n sekuriteitsingang of in ’n ambassade of diplomatieke missie of wat dit ook al is, stry jy nie. “Daar is ’n fotograaf in die winkelsentrum op die hoek,” voeg die amptenaar darem met ’n kyk oor haar bril by. “Skryf jou naam in die visumaansoekboek in die vertrek langsaan en kom terug met die regte foto’s.” Dié vertrek is net so troosteloos lelik soos die ingangsportaal; daar hang nie eens ’n uitgewaste toerismeplakkaat of presidentsfoto in amptelike hoogdrawendheid nie. Is die land ooit so ’n belewenis as wat die reiswebwerwe se odes sê? Maak sy ’n fout? Kan sy Oumu se oordeel en haar hotelbeskrywings as evangelie aanvaar, of sal ’n tegniese mens soos ’n bourekenaar met ’n ander oog as sy of Dominique kyk? Dit het toe niks gehelp om haar gesig uit twee troufoto’s sonder haar sluier te knip nie. Mens laat mos nie meer sommer foto’s afdruk nie, en sy het nie gedink twee kopieë sal die stapel wat hulle by Heleen as trougeskenk gekry het, verarm nie. Ben het darem verlede week ’n klompie foto’s van hulle kind vir sy ma laat maak, maar nou is dié ook nie goed genoeg nie. Die gat uit ’n troufoto het nogal aardig gelyk, amper na ’n aanklag. Haar maag draai en haar gedagtes deins weer terug van haar ontrou. Die fotograaf op die hoek sal dit maar wees. Sy kan haar haar pa se moedswillige reaksie voorstel: “Dit sal ons leer as ons nie ophou om in terme van swart en wit oor Afrika te dink nie.” “Karen, dit is ’n klip van my hart af dat ek my ma gaan sien,” sê Oumu. Sy kan nie glo hoe die vrou ontluik het vandat die reis na Mali ’n werklikheid geword het nie. Sy blom behoorlik, al is haar ma soms ’n skadu oor haar gesig: “Ek het nog nie wat ek kon in Suid-Afrika bereik nie, al beleef ek tans ’n terugslag, maar ek moet nou eers teruggaan. Ek sal vir Ben die geld teruggee sodra ek weer ’n werk het, ek belowe. “Al daardie jare in Rusland en daarna in Bamako voor ek na die myn in die weste toe is, en nou was ek boonop in Suid-Afrika waar die woonplekke so dikwels lelik is. Ek kan nie glo dat ek ná soveel omswerwinge op pad terug is na haar toe nie. Voor mens jou oë uitvee, is die maan al weer vol en het die
sterrestellasies al weer verder gekantel. Ek kon seker ook in die tussentyd meer briewe gepos het, maar jy weet met watse ranke ’n nuwe wêreld mens vaswoel. Maar ek soek seker vir myself verskonings, en dit is soos om ná sononder modderdoek te verf – jy maak die stiltes en donker deel van die doek. My ma verdien dit ná al haar opofferinge om my stories vir oulaas weer om haar te vou.” “Ek is jammer dat jy eers met my opgeskeep gaan sit, Oumu, maar Ben sê dit kan nie anders nie, en ek kan ook nogal dink dat dit sal sukkel op my eie met die baba in ’n wêreld wat ek nie ken nie.” “Wat ek kan, sal ek opoffer, Karen. Dit sal ook nogal ’n laaste waardige kussing onder my ma se nek wees dat iemand die balafoon met sy kalbasklankkas oor Mali wil speel, en dit nogal oor sy aandeel in ’n eens invloedryke bedryf soos sout. En ons sal haastig reis sodat jy soveel as moontlik kan sien voor ons paaie moet skei.” Net toe sy, Oumu en Pikaninie op die Ben Schoeman-snelweg terug na Johannesburg klim, lui haar selfoon. Dit is die missie: Haar verblyfuitnodiging uit Mali is nie volledig genoeg nie. “Ons kan die adres op die internet soek,” paai Oumu. Kan dit wees dat die hotel van ’n voormalige minister wat soveel erkenning geniet, droogmaak met so iets? “Dink jy dit sal die moeite werd wees om te gaan, Oumu?” wonder sy weer, dié keer hardop. Toe Oumu haar ken teen haar bors druk en haar hande wit om die stuur klem, is dit asof die vrou lewe kry. “Sout sal jy sien, Karen. En Ben het gesê ek moet vir jou ’n storie vertel van die grootste Malinese heerser van alle tye, Sunjata. Maar die griots vertel elkeen ’n ander weergawe van die storie. En my weergawe van die verhaal verskil weer van hulle s’n.” Wat kan ’n griot wees? Maar sy het ’n dringender vraag: “Hoekom, Oumu, dink Ben die storie kan my projek help?” “Moet ’n storie altyd ‘help’, Karen?”
En oor sout vertel Oumu ook nie ’n dooie woord nie. Maar teen die tyd dat hulle tuis kom, is sy glo darem nog nie naby halfpad met die storie oor Sunjata nie. Toe die baba versorg is, stop Karen hom nogtans eers in Oumu se arms en stip notas neer ingeval die besonderhede van die halflegende haar tog vir die projek iets in die sak kan bring. Van nou af gaan die laaste reëlings begin mal raak, van hondekos vir twee weke vooruit tot genoeg brandstof in die motors en ’n beskuitjie vir haar ma vir net voor slaaptyd. Sy sou vir Ben oor die storie kon vra, maar danksy Jakob sit haar man al hoog en droog op die lughawe op pad na Mali. Hy sal oor die Midde-Ooste vlieg en met Anglo se huurvlug in die weste van die land kom, maar sy en Oumu vertrek oor Kenia na die hoofstad. Iets wil haar laat dink die Sunjata-storie het dalk met Rouxtjie te doen, maar wie weet watter windrigtings ’n vertellyn kan inslaan. Buitendien, wat is die “elke griot vertel ’n ander weergawe” waarvan Oumu praat? Ook haar “maar is jou weergawe die akkurate een?” het Oumu geïgnoreer. Laataand kyk sy tog gou na verblyfopsies in Ségou en Mopti, al het Oumu gesê hulle hoef nie te bespreek nie, daar is altyd plek. Met haar baba by haar wil sy nie kanse vat nie, en sy sal beter voel as sy ten minste name en telefoonnommers byderhand het. Op die internet blyk dit ’n griot is iets tussen ’n orator of ’n hofnar en ’n historikus en selfs ’n genealoog: Ons is uitverkore woordvoerders, meesters in die kuns van welsprekendheid. Ons bewaar geheime wat baie eeue oud is, en ons dra wysheid en tradisies oor aan die geslagte wat kom. En die toekoms, dit spruit uit die verlede (die wêreld is oud). Solank hierdie land net vir haar die toekomstige verlossing van projeksukses meebring.
Sunjata se ma was ’n boggelrug, die dogter van die buffelvrou, en sy pa ’n aantreklike koning, die leeukoning, uit die geslag van die Mandingo. Daar is voorspel dat Sunjata ’n groot oorwinnaar sal word wat Mali se twaalf provinsies sal verenig, die glorieryke monarg van een van die grootste Afrika-heerskappye van alle tye, groter selfs as Alexander die Grote. Maar op die ouderdom van
sewe het hy steeds nie geloop nie. Sy verhaal begin by die magiese wêreld van sy ouma, die vrou wat soms die vorm van ’n buffel aangeneem en meer as honderd mense in die land Do om die lewe gebring en sewe en sewentig beseer het omdat haar broer, die koning, haar van haar erfporsie beroof het. Vir die jagter wat die buffel kon doodmaak, het die koning die mooiste meisie in sy ryk belowe. So het twee dapper jong jagters ’n beleërde vrou teëgekom wat, nadat hulle vir haar vleis gegee het om te eet, gesê het sy is die buffel, en dat dit tyd is om te sterf. En sy sal tot vir hulle sê hoe om haar dood te maak, maar dan moet die jagter haar lelike dogter met die boggelrug as vrou kies wanneer die koning en sy ryk die magiese buffel se dood vier. Die jagter het toe inderdaad die buffel doodgekry en, soos hy belowe het, die skreeulelike Sogolon tussen al die mooi jong vroue gekies. Sy het haar voorkoms agter ’n doek probeer versteek. En tog, toe sy gekies is, het al die onderdane se gelag steeds opgeruis soos water wat val. Maar as vrou wou Sogolon nie besit word deur óf die jagter óf sy jonger broer nie. Agter die hut se toe deur het sy in ’n ondier verander, en só het hulle haar uiteindelik weggegee aan die koning van Mande toe hulle in dié se stad Niani uitkom. Die pragtige heerser en sy griot het onthou van ’n ander jagter met magiese vermoëns wat hom eendag kom troos het dat hy wel uiteindelik ’n seun sal kry wat waardig sal wees om sy vader op te volg. Dié jagter het voorspel hy sal die heerser der heersers by ’n onaansienlike boggelrugvrou verwek. Koninklike tromme en dansers uit elke dorp het die huwelik aangekondig, digteresse het die jong bruid se naam gedreunsing en die bolon se drie snare het musiek gemaak. Die griot het die volkslied gesing, die koninklike familie het graan en goud uitgedeel en in die binnehof is osse geoffer en geslag sodat almal kon eet. Maar ook by die mooi koning het Sogolon telkens ’n monster met lang hare geword as hy aan haar wou raak, en die moeders van die volk het elke oggend teleurgesteld omgedraai as hulle kom kyk het of die maagdedoek al met bloed bevlek is.
In Mali is dit nie dolosse wat praat oor die môre nie, maar jakkalsspore, en toe die koning ten einde raad antwoorde in die sand soek, het Sogolon se nuuskierigheid die oorhand gekry. “Die spore sê ek moet jou om die lewe bring!” was die koning se uitroep. En toe Sogolon flou word, kon hy haar as vrou neem omdat die gees nie langer in haar was nie. Nog daardie selfde nag het sy ma geword. Intussen het die koning se aaklige eerste vrou Sogolon aanhou spot oor hoe sy lyk. Maar die jongste koningin het geweet sy verwag die troonopvolger, en drie uile op haar dak het haar opgepas. En toe, met die geboorte, het die koning se tante die kind se naam in sy oortjie gefluister sodat die kind dit nie sal vergeet nie: “Sunjata, dit is jou naam, seun van die leeukoning en die buffelprinses.” Nogtans het die gespot van die koning se eerste vrou wat wou hê haar seun moet haar man opvolg, nie minder geword nie. Nou het sy veral gespot omdat Sunjata maar net nie begin loop nie. Later het tot sy sussie wat intussen gebore is al begin stap, maar hy het hom steeds op sy sterk arms voortgetrek, sy bene, knieë en voete ’n sleepsel agter hom in die stof. Nie eens al sy ma se magiese vermoëns kon hom help nie. Sy pa het al gesterf, toe loop die kind steeds nie. Die ystersmidsiener van Niani het die koning voor sy dood gewaarsku ’n groot boom groei stadig, want sy wortels skiet diep onder die grond in. So vinnig soos wat ons wil, kom die wasdom nie. Hoe ongeduldig is die mens, was sy wyse woorde.
Hoofstuk 33
Waaraan Karen haar verkyk, is die skoonheid oral om haar. Wel, miskien is dit nie haar pa se definisie van “landskapprag” nie. Papiere lê rond, veral swart plastieksakke, en ’n man het pas ’n emmer water knap agter haar bene verby oor die sypaadjie geskiet, straat se kant toe. Die druppels het ’n stofbaadjie om gekry soos dit aanrol voor dit in die harde wintergrond verdwyn. Pikaninie se ogies knip-knip in die helder son, en sy trek sy hoed verder oor sy gesig. Die sonbrandroom blink nog wit op sy wange en hy lag vir haar soentjie op sy neus. Sy vryf oor sy rug in die drasak voor haar en voel-voel na haar kamera op haar heup. Oumu het gewaarsku die mark is die enigste onveilige plek in die hele Mali. “Nigeriërs,” het sy oor die grypdiewe gesê. Die helfte van haar geld is tussen die bababottels en -medisyne in die rugsak. Sy was bang om al die note by die hotel te los, al het Oumu haar verseker uit die tas sal dit nie voete kry nie. Sy het ’n berg kontant saamgebring, want daar is volgens Oumu meer kitsbanke in een winkelsentrum in Suid-Afrika as in die hele Mali saam. En op enige plek buite Bamako sal reisigerstjeks glo nutteloos wees. Vader, solank die vrou net nie met al die geld vir die motorhuur verdwyn nie. Hoe goed ken sy haar werklik, al het Ben gesê hy vertrou haar? Oumu het haar en die baba buitentoe gejaag, al het sy gewens sy kon eerder by die hotel bly en al die rykheid en idees daar indrink, van die vooraansig met die swaar houtdeure tot die binnehof met die speelse humor en die kamer met soveel kultuurgoed van Mali. Op die hoek het Oumu hulle gehelp tot in ’n groen minibustaxi, wat meer na ’n ongelukveteraan gelyk het as padwaardig. Maar Oumu het net gesê: “Moenie bekommerd wees nie. Hulle gee altyd die regte kleingeld, jy sal sien.”
Sy kan sweer alles wat sy in Mali moet sien, is in daardie hotel saamgevat, van die appliekwerk en erdewerk tot die eenvoud van die handgemaakte stoele. Maar Oumu, kom sy agter, hou van voet neersit op haar eie werf. “Vandag is markdag, jy kan vanmiddag kyk, môre ook, en daarna gaan ons Ségou toe.” Oumu het vir hulle ’n betroubare viertrek gaan soek by haar niggie se verbintenisse. Van Ben het Karen verstaan die hoofpad is geteer en as jy die slaggate misry, soos in Suid-Afrika, is ’n viertrek nie nodig nie, maar Oumu verseg met ’n fyn vinger wat heen en weer swaai. “Ek weet. Ben ken net die pad myn toe.” Sal haar man oukei wees? Hy is seker; hy is in sy element by ’n myn. Op pad na die mark weet sy nie waar om te kyk en waar om te los nie. Elke vrou trek so uit die boek soos Oumu aan, en die mans se hemprokke bol bont agter hulle op die motorfietse wanneer hulle straatop ry. Die kleurryke patroonlap, het Oumu in hulle taxi op pad van die lughawe af verduidelik, is die helfte goedkoper vir vyf meter as die bazin per meter, die dik glanssis wat die rykes dra. Onderweg na die hotel het sy ook hier en daar weelderiger huise tussen die kommunale verblyf uitgewys. Daar rank bougainvilleas of ’n palm floreer, die stofstraat is net daar geplavei en waar die klip ophou, lê die spore van ’n hark. Die waterkruik buite is by dié huise ook net ter versiering, voer Oumu aan. “Die wittes en die rykes, hulle drink Perrier-water. En jy en die baba, julle moet ook nie van die rivier se breë water drink nie.” “Omdat ons wit is of omdat ons ryk is, Oumu?” kon sy nie help om te vra nie, en Oumu het dubbeld gevou soos sy lag. Daar is ’n nuwe vreugde in haar, hier terug by die huis. Dit is ’n lewensblyheid wat Karen haar wil verbeel sy oral om haar sien, ’n vergenoegdheid met die lewe ondanks die ooglopende armoede. Die motorfietsryer met die twee motorbande sommer so om sy lyf blaas nie die donkiekar voor hom uit die pad nie en die gogo met die sak meel op haar kop
glimlag eers vir die baba. Net haar kameralens verby die baba se koppie ontlok soveel wantrouige kyke dat sy dit later eerder bêre. “Foto’s van goed kan jy neem, foto’s van mense nie,” het Oumu oor die Moslems gewaarsku. Vir die meeste stalletjie-eienaars lig sy net haar oop hande met ’n glimlag, want al koop sy wat, sy sal dit omtrent op haar kop moet dra. “Engels?” vra sy tog vir ’n smous van tweedehandse boeke. Hy kom vorendag met ’n boek oor Diana, en ’n stokou skoolboekie. Lank, lank gelede, lees sy, was God se blyplek nog so na aan die aarde dat die vroue met hulle mannakoringpale gate in die hemel gestamp het sodat dié se lig snags op die mense begin skyn het. Sy glimlag. Dalk sal daardie genade in hierdie land ook op haar begin skyn. Oumu het hoeka die tweede, steeds soutlose deel van Sunjata se verhaal vir haar in die koffiekroeg op die lughawe in Nairobi vertel. Pikaninie wou ná die landing eers nie ophou huil nie en sy was angsbevange dat die reis ’n herhaling van die dwase een na die vakansiehuis kan wees. By die Maison des Artisans steek sy weer vas. Ben begeer vir so lank as wat sy hom ken ’n djembetrom. Sy kyk gefassineerd hoe die man die hout tussen sy bene vaspen en die bokvel met toue oor die holte vastrek. Maar die prys wat die vakman op ’n papiertjie skryf, laat haar weifel. As sy nie ’n plek in daardie verbranne wedstryd kry nie, sal sy ná dié reis dalk nog in elk geval haar eie poetoepapstalletjie in die middestad van Johannesburg moet begin. Wat haar verbaas, is juis hoeveel kos te koop is, die mooiste papajas en piesangs en pynappels, uie en tamaties, en berge patats en aartappels en seker jams. En tussendeur die bakke oop kruie. Waar is Dominique nou? Op een plek het ’n vrou straataf geloop met ’n plat bord geelwortels op haar kop, en net die ingewikkelde rangskikking daarvan is reeds ’n kunswerk.
Sy steel met haar oë so ver sy loop, en hoe meer sy sien, hoe meer groei die opwinding. Wat Ben van die Malinese sê, is waar, dit lyk nie asof hulle ’n stapel hout kan verkoop sonder dat hulle dit eers mooi geometries gepak het nie. “Wens jy jou pappie was hier, skapie?” vra sy vir Pikaninie. Op pad terug na die taxistaanplek staan hulle eers ’n rukkie voor ’n muurskildery van ’n Palestynse kindermartelaar wat agter sy pa se rug wegkoes. En om die monument is die rondgesnoeide bome en vierkantige blaarheinings wat sy ook in die verbyry voor die reserwebank gesien het, ’n parterre so uit Versailles se hof. “En wat sou jou ouma van die Franse tuine hier in die boendoe gesê het?” Die liewe ding gaap net; sy moet terugkom by die hotel. Snaaks, dit was so al asof haar ma vir haar iets wou sê voor haar vertrek na Mali, maar telkens het haar hande besiger as haar lippe geraak, of sy het hardop gewonder of haar kleinkind nie aandag vereis nie, of so iets. Genade! Sy hoor sowaar haar selfoon tussen die geraas van mense en diere deur bliep. Die SMS is van Dominique: Niks minder as goudstof nie! Sien jy al vars mis van olifante? Het vir jou foto’s van amazing katedralerige soutmyn by Krakow in Pole. Navorsingsfontein vlóéi. Sy lag, en haar baba kraai saam. Dit is snaaks dat sy nog nie van haar pa gehoor het ná haar kort boodskap, met die oorklim in Kenia en weer toe hulle pas hier geland het, om te laat weet alles is reg nie. In Suid-Afrika was sy stem oor die foon op die lughawe dik van die kommer. Moes hy dan nie al op sy beurt in München aangekom het nie, reisigerswoordeboek in die een hand en bang student aan die ander? Ag, maar hier gaan sy vlieg! En sy sal haar ouers weer trots maak. En, hoop sy, vir Ben. Heleen het haar belowe sonder geld se spanning sal sy weer op haar en Ben se tiende huweliksherdenking foto’s kom neem, so waar as padda manel dra.
Sy vee die sweet van haar gesig; die taxi sal seker nou vol raak sodat hulle kan ry. In haar kop het sy reeds begin notas maak oor die hotel van die oudminister van kultuur, Aminata Traoré, wat in haar omswerwinge deur die land die mooiste artefakte bymekaargemaak het. In haar kamer pronk ’n tapyt van blokke gebreide bokvel, ’n hemelbed met beddegoed van strookweefwerk, vloerkussings uit leer in vellierooi, olyfgroen en sandgele uit die woestyn en ’n potstaander met die ruwe rondings van ’n grofsmid se hamer. Teen die deur se rugkant hang ’n grasmat wat in diagonale lyne gevleg is en die voorkant spog met die silwer insetsels uit Marokko. In die sitkamer is ’n kameelsaal die deurstop, modderdoekkussings rus op die rottangmeubels en plaatgoud blink op die beestehorings teen die oker muur. As hierdie land nie elke spinnerak in haar kop loswoel nie, weet sy sowaar nie. Sy moet haar net ophou verknies oor haar ouers, en oor wat die uitslag oor die arme tannie Rachel kan wees, en die geleentheid aangryp. Oumu sê Ségou se modderdoek en vuurgebakte kleiwerk is ’n moet, en dit sal op sigself saam met Mopti se hotel al ’n knapsak vol idees oor haar skouer beteken. “En ons sal soutblokke op die mark en bote in Mopti sien?” het sy gevra. Oumu se “beslis” was ’n baie vinnige ja. “Die plate van honderd kilogram elk, met grys kolle in die witterige kleur, jy sal dit sien, die vasgeknoopte bondels.”
Hoofstuk 34
Dit is tipies sy dogter om die wildernis in te neuk, soos die keer toe sy by Jonkershoek tussen die bome met die motorsleutels in haar rugsakkie weggeraak het, dink Hendrik vir die soveelste keer toe hy by die lughawegebou uitstap. Hy en Bertha het hande in die hare met ’n histeriese Roux in die gietende reën by die voertuig gestaan. Karen se alewige gekruip in gate in, asof dit mens laat ontvlug van jou omstandighede. “Taxi, taxi, taxi!” sak ’n skare manne op hom toe totdat ’n polisieman hom tot onder die afdak terughelp. “Wag jy vir die hotel se bussie? Wag hier.” Hel, dit is dan ’n winter soos in die Noord-Kaap; hy sweer dit is 32 oCelsius buite. Die lugversorgde viertrek kom gelukkig gou. Welcome in Bamako / Bienvenue a Bamako, lees hy op twee groot boë oor die dubbelweg. Gmf. Seker genoeg blerrie bakstene in dié ingangspoort om tien huise vir die armes mee te bou. Hy gril vir die ouens wat so sonder helmet motorfiets ry, met kinders voorop. Al beskerming wat die goedjies het, is ’n monddoek teen die stof. En die verkeer is ’n maller getoet as waarop hy gehoop het. Die bleddie Franse ry mos boonop aan die verkeerde kant van die pad. “Is my hotel ver van die Dunanso-hotel af?” “Nie ver nie,” antwoord die bestuurder verby die kougom in sy kies. Stapafstand, het die blyplek belowe toe hy bespreek het. Dit was omtrent ’n storie om Karen se hoteladres uit Bertha te kry. “Wat as ek haar skielik uit die buiteland moet bel?” het hy moes vra. Wat Bertha gaan maak as sy weet hy is in Wes-Afrika en nie Wes-Europa nie,
weet nugter, maar hande klap gaan sy nie. Haar brief oor sy ryery agter Karen aan na die seehuis toe was al klaar ’n gesmeek vir die kind. Dié twee uieskilvelle uit Johannesburg het hom verras; sy het laas vir hom geskryf toe sy tydens hulle verlowing saam met haar ouers met vakansie was. “Hou op terugkyk,” het sy vrou gesmeek in haar regop vloeiskrif wat in al die jare wat hy haar ken net so netjies gebly het. Miskien lê ou goed soos kuilvoer onder in die gat en broei, die metaangas gereed om wie ook al daarmee neuk te oorval. Dit is nie die kwessie nie. Maar om hier met ’n baba die gopse te wil in … Sy was net ’n kind destyds, wil jy vir jouself sê. ’n Blote kind. Maar wanneer gaan Karen eendag begin wys dat sy verantwoordelik grootgemaak is? Hy wens nie sy vyand die pyn toe van ’n baba wat te blootgestel kan wees nie, wat nog te sê sy eie kind. Die geweld van ’n gewete. Vader, as hy hierdie keer liewer net op die agtergrond hoef te bly. Dat ’n man net nie in ’n blik gedruk word om te oorreageer nie. Met kommer oor ’n nat bergpas gaan hy nie dié slag sy teenwoordigheid weggepraat kry nie. Maar sy vrou se reaksie sal niks wees teenoor die sampioenwolk van Neville se ontploffing nie. Ha! Hy wens eintlik hy kan die man se gesig sien as hy hoor Verantwoordelike Verhoef het gedros. Noudat die kalf in die put en al sy adjudante met verlof weg is, is die man wat met vervroegde aftrede moes gaan skielik goed genoeg vir Duitsland, maar nie om ’n referaat te gaan lewer nie, nee. Hy het die student wat hy moes vergesel een kyk gegee toe hulle hul kaartjies by die departement moes gaan afhaal en gesien sy sal enige man vir brekfis opeet, al is sy so klein van postuur. “Het jy ’n grysbaard nodig om jou in Europa op te pas?” het hy gevra, en toe sy uitbars van die lag, geweet die kind sal regkom sonder hom. Sy is mos nie Mejuffrou Tiener 1983 dat sy nie op haar eie kan reis nie, en dit na ’n Eerstewêreldland! Hy het daar en dan die bleddie kaartjie gekanselleer, en hy sal sorg dat Neville elke pennie terugkry. En die liewe Lenie moet darem iets van die Verhoefs in haar hê, want voor hy kon sê “Timboektoe-sterrekundiges” het sy broerskind haar kollegas in Pretoria gebel en by die Malinese vir hom ’n noodvisum gereël vir ’n “navorsingsreis om die wetenskaplike manuskripte te gaan bestudeer met die oog op ’n lesingreeks
aan die voorste universiteite in Suid-Afrika”. “Ek het nie gejok nie, oom Hendrik, ek het net ‘our government’ en ‘Thabo Mbeki’ drie keer in een sin saamgegooi, en dit blyk dit is wat die deure daar laat oopswaai,” het sy ingenome gesê. Dit is nie in sy aard om op sy woord terug te gaan nie, maar daar op die kampus waar hy soveel ure van sy lewe deurgebring het, het hy hom afgevra wie hom nou die nodigste het, ’n selfversekerde jong vrou of sy eie dogter en kleinseun? Genugtig, maar die bestuurder ry woeste draaie. Hy hoop net hy kry sy rigting in hierdie stad. En kyk al die groentelandjies hier aan die rivier; van die liggroen van slaaikoppe tot koolblare se vaal. Of Bertha regverdig is, weet hy ook nie. Paulus had ’n doring in die vlees, sy broer Dawie ’n splinter in sy boud. “Hy moet vrot, dit is al hoe jy die ding uit jou lyf sal kry,” het die plaaswerker gesê. Die koeël is deur die kerk en dit is klaar met kees, sê die spreekwoorde. Kyk Lot se vrou. Het hulle al daai natriumchloried net so gelos, of haar afgekap en saamgevat toe hulle verder hol? Ek het jou so lief soos die sout in my kos, Pappa, het die prinses vir die koning in die kinderverhaal gesê, en toe jaag hy haar weg. Hoeveel keer het hy dit nie vir Karen gelees toe sy ’n dogtertjie was nie. ’n Storie kon altyd haar hart sag kry. En hoeveel keer het sy nie die einde opgehaal as sy ’n knippie sout voor in haar eierkelkie se rand kry nie. Jodiumverryk en dit gly so maklik soos Cerebos, maats, moet net nie in onse eeu te veel vir ’n cholesterollyer gee nie, maar daaroor hoef julle nie jul koppe te breek voor julle vyftig raak nie. Hou net mooi vas aan die radio en ry saam met die Siembamba-treintjie. Oulike ou storietjies en liedjies waarna ons luister. As sy dan nou teen wil en dank wou foeter met sout, vir wat het sy nie gebly by die soutkrater by Tswaing nie? ’n Soutpan op haar voorstoep, as sy dan nou opsluit met sout opgeskeep wou wees, en sy kon die Tswana-kultuur daarby peper, maar nou foeter sy hier in Mali rond. Of wat van al daai panne aan die Weskus of tot in Namibië waar soveel soutskrapers vanmelewe kromgestaan het?
Is die rook en stof bokant dié stad dan nou danig romanties? In die hotel se portaal slaan hy ’n stadsplan oop. “Hotel Dunanso?” vra hy, en die ontvangsdame teken vir hom die roete. Hy moet dringend ’n voertuig gereël kry; hy sal seker omtrent soos ’n geheimediensamptenaar met ’n keps en ’n RayBan moet wagstaan. As dit Hawaii was, kon hy ’n blommehemp gedra het, maar hier gaan sy wit vel hom adverteer al verdwyn hy in een van daai blou mantels op die Toeareg-plakkate in die lughawegebou. Ná sy stort slaan hy voet na Karen se hotel. Hy kan sweer iewers naby vloei ’n stroom stront, en druk sy neus in sy sakdoek. Gelukkig lyk die mense nie te honger nie, maar dikkes sien hy ook nie. Daar’s hy, die hotel is darem nader as wat hy gedink het. Die mense doen nogal moeite, dink hy so onder die boom ’n halwe blok van die ingang af. Kyk die patrone in die huise se pleisterwerk, en die boë in die ysterhekke. Sy kind is hier seker so gelukkig soos ’n vark in die modder. Hy kan skaars sy geluk glo toe ’n borriegeel viertrek voor die hotel stilhou en Oumu uitklim. Mens sal dié ding nie kan mis nie, al wil jy. Nogtans skryf hy die registrasienommer dadelik neer: Q-6148-MD. Nou moet hy nog net hoop Avis se voertuig staan nie te blinkstefaans uit tussen die 1970-Citroëns en -Peugeots en deurleefde taxi’s wat hy op pad van die lughawe af gesien het nie. Hy beter dan seker ook ’n viertrek kry. Soos hy vir Karen ken, sal sy al die pad Timboektoe toe piekel om te gaan kyk hoe ’n Toeareg se teekoppie lyk. Asof die Dakartydren nie oor dié gevaarlike bliksems na Suid-Amerika verskuif is nie. Hy probeer van skadukol tot skadukol terugstap; die son looi sy kaal kop. Bertha praat van vergiffenis wat so moeilik is omdat dit somtyds voel asof mens self agter die deur staan. Dit klink nie asof so iets die stadionkerke pla nie. Hoe groter die sonde, hoe groter die teatrale verlossing. Floutes, skuim om die bek en ’n opblaasswembad vir ’n doopvont geguarantee.
Of dit nog ’n kwessie van vergiffenis is, weet hy nie. Hoe lank terug het die dinge nou al gebeur? Dit voel soos ’n halwe leeftyd. ’n Plaaspad kan verjaar. En selfs finansiële skuld. Maar moet ’n man nou ’n soetsappigheid uit die storie gaan staan en maak? Lieg? Nee, Pappa het gedink tannie Deluvia was heeltemal reg, Rouxtjie moes na homself gekyk het. Hy wil so graag die dinge in die verlede laat waar dit hoort. Maar as hy hom kom kry, is hy weer terug by toe. Hy was so oortuig alles sou goed verloop met die twee kinders alleen by die huis. So seker. Karen was dan toe al amper veertien. Sy ouma het al begin dink aan trou op daardie ouderdom. Seuns is dan oorlog toe met melkbaard so sag soos perskehare.
Hoofstuk 35
In die namiddag het sy al so ’n onverklaarbare ongedurigheid oor haar voel kom, maar toe het Oumu by Pikaninie gebly sodat sy vinnig met haar kamera deur die hotel kon aas. “Vinnig, vinnig soos die wind,” het Oumu gesis, en sy was nie verkeerd nie. Teen die tyd dat die vrou met die knoop-en-doop-rok “geen foto’s nie” kom sê het, was elke stukkie detail al op die geheuekaart vasgevang. Sy weet nie wanneer sy laas so naar gevoel het nie. En haar maag voel ook na ’n lollery. Het sy per ongeluk verkeerde water ingekry toe sy tande geborsel het? Was daar dalk fout met die jogurtstafie wat sy vir middagete geëet het? Wat ’n ironie sal dit nie wees nie, nadat sy die mark se kos so sorgvuldig vermy het. Noudat haar kind slaap, moet sy haar gedagtes terugdwing na die projek. Die hotelidees sal ’n vertrekpunt wees, nie die alfa en die omega nie. Vandat sy die aardse hier eerstehands begin sien en beleef het, sal sy daarmee kan speel. Wie weet, dalk gaan sy nog die tradisionele met die moderne van Starck se Louis XVI-spookstoel uit deurskynende polikarbonaat kombineer. En rottanglampkappe afwissel met kandelare van kristal of glas geslyp in die kubies vlakgesentreerde kristalstruktuur van sout. In Ségou sal sy en Oumu ’n kamer deel, maar dié het vroegaand na familielede verkas. In die maanlig is Pikaninie ’n molshopie op die dubbelbed langs haar. Sy hou weer haar oor naby sy mond. Sy asemhaling bly egalig, die ou dingetjie. As sy net haar kind goed genoeg kan koester. Sy sal hom nog leer troos sonder die leenwoorde van ’n wiegeliedjie. Vader, sy was laas so naar toe sy verwag het. Maar dit was oggendnaarheid. O aarde, en hier moet sy wasbak toe hardloop. Daar is fout. Sy staan krom totdat die konvulsies bedaar en kyk verdwaas in die klein spieël.
Tot nou kon sy haar gedagtes met sukses onderdruk, die dolheid van die reëlings was ’n verdowingsmiddel soos min. En op die vliegtuig het sy haar vir die eerste keer veroorloof om in die gedempte lig van die nagvlug oor Michael te treur. Sy wat gedink het sy het teleurstelling deur die jare leer snoeker. Dit was in elke opsig ’n onheilsgedagte om na die seehuis toe te gaan. Dat Michael haar wel die een of ander tyd die deur sou wys, twyfel sy nie. Of andersom. Haar ragdun vergoeiliking van die verhouding sou tog deurskif, gouer eerder as later. En sy voortdurende soeke na ’n ja vir alles wat hy doen. Hoekom? En dit ’n man soos hy? En daarby die nadertrek- en wegstootspeletjie waarmee hy die laaste twee, drie keer begin het toe hy besef net hoe afhanklik sy van hom geraak het. Dit was uiteindelik nie al kwessie nie, en in elk geval nie die grootste kwessie nie. Rouxtjie was. Soos altyd. O genugtig, nou is daar groter fout. Toe sy sit, gryp sy net betyds ook die ketel langs die bak. En toe sy eindelik kan opstaan, skrop sy haar hande in die kleiwasbak tot dit rooi is. Haar pa! Dit is die dolk in haar maag. Sy wou glo haar ma het hom agter haar aan gestuur. Maar hy het dit geglo. Hy het dit self geglo. Hy het dit gedink en geglo. Hy het die stem van haar broer se bloed gehoor. En sy het gemeen dit was net haar ma, al die jare. O Here, help! Het sy nog ingewande? Haar oë is bloedrooi toe sy weer regop kom oor die wasbak. Sal dit help om nou ’n Betaperamide te sluk, of moet die ding hom eers uitwoed? Haar pa se gemoedelikheid, sy hand op haar kop toe sy tog eindelik weer begin wen het, sy geselsies by Calvinia en Brandvlei verby, wat het dit alles beteken? Dit was nie net haar ma nie. Dit wat al die jare haar behoud was – dat hy vir haar sou voorspraak doen, stilweg vir haar by haar ma sou pleit – dit alles het tot niks
gekom. Sou hulle maar hulle smart en woede teen haar rig dat sy kon boet. Hoe het sy nie gesmeek voor die Here nie, laat dit asseblief nie so wees nie, laat hulle enigiets dink, net nie dat sy nalatig was nie. Is daar iewers, iewers verby hierdie nuwe ou seerkry ’n koelte wat jou in ’n blou troos kan omvou? Watter lap, van al die teksture wat sy ken, kan so ’n koors uittrek? Watter mosterd of antiek bereide kruiesalf? Die bottelwater spoel nie die galsterigheid uit haar mond nie. En sy moet liewer in die badkamertjie bly. Kan hierdie gedagtespiraal haar nie maar boonop los nie? Sy druk die growwe linne van die afdroogdoek met albei hande teen haar gesig. As een kind sterf, durf die ander lewe? Kyk na haar pa en ma se vuilgevatte ieblomme. “Die aand-ete”, onthou sy. Alles wat die gedig nié gesê het nie. Haar plan was om dit teen sy skouer te sê. Sy wou na ’n tjello geluister het, na die branders teen die rotse, en in ’n stilte tussen hulle wou sy dit teen Michael se skouer gesê het: “Ek het hom gehoor.” Sy fluister dit vir die moddermure en die muskietnet met die borduursel om: “Ek het my broer gehoor.” ’n Spasma ruk deur haar maag. Haar musiek was hard, ja, en sy was ’n tiener. Maar sy het Rouxtjie gehoor roep. Soos hy altyd na haar geroep het. Die smeekstem. Een glip van ’n dom hand. Een aar. Net so. Here, en toe is hy dood. Hy wou vlegbrood sny, die brood waarin die bakker se vernuf sag en wit soos vlieswol los kan skeur. Dié keer was daar iets anders in sy roep, ’n ander nood as sy gedurige gevra na haar, gewroeg na haar. Is dit omdat hulle ouers uit is, albei saam, vir die allereerste keer? het sy nog skrams gewonder. Haar een middag van vryheid, van nie móét ter wille van Rouxtjie nie.
Het sy haar afgesluit? Kon sy nie so mooi hoor nie? Sy het nie gedink dit was so erg nie. Of het sy? Wat durf sy onthou? Het die geroep eers agterna, met die jare, so onbeheers in haar kop geraak, of wat het sy nou eintlik daardie dag met die radio uitgedoof? Waarvan ruk sy nou so? Sy dwing haarself om water te drink; sy gaan dehidreer, en wat dan van haar baba? Hemel, solank haar kind net hiervan bewaar bly. Wat sou jy gemaak het as jy besef het! Sy het hom gehoor roep. In haar geestesoor het sy dringendheid ’n falsetstem geword, al hoe harder en hoër: “Help! Help! Help!” Met eggo’s wat so heen en terug galm dat jy jou hande oor jou ore moet skulp, maar die grot in jou kop het, die Here weet, ontelbare kamers. Sy wou haar voor Michael se bieghok sitmaak. Die stem wat dag vir dag, jaar vir jaar in haar kop geëggo het, sou mos van die weerklinkende akoestiek van ’n katedraal kon uitdoof as sy eindelik deur die klein gaasvenster fluister: “I have si-n-n-e-d.” Dat sy só met haar pa se hefboomkrag die gewig kon lig, die ondraaglike swaar van alleen weet. Dit was ’n slagaar, sou Michael moes sê, geen dringender hulp sou hom kon red nie. Die bloedverlies, suurstof na die brein … Sy voel so bewerig dat sy sukkel om die koekies oop te skeur. Al kan sy net een geëet kry, ter wille van haar kind. Dalk help die Betaperamide al. Kommersiële Reg I was naas Kleding eers ’n afskeepvak. Wanneer is ’n daad onregmatig? En soms word ook versuim verbied. Opset of omissio. Culpa. Mea culpa. En die definisie van ’n redelike man? Jy bly die aanklaer, en verdediger. As mens voor ’n regterstoel moet staan, en sweer: Dit, U Edele, is wat daardie dag in Magnoliastraat gebeur het. Minuut vir minuut, soos ’n misdaadverslag. Dit, U Edele, is wat jaarin, jaaruit in die straat van die sierstruik gebeur het.
Kollektiewe skuld is draagliker, want dan is dit dalk nie joune nie. Nie alles nie. Dalk selfs niks nie. As haar baba nou wakker word, sal sy iemand moet gaan roep. Maar hoe? Dit voel asof haar bene skaars in die badkamer en terug kan kom. Sy moet opstaan en weer haar hande was. Wie wat by sy volle positiewe is, of nie, sny ’n gevlegte brood met ’n mes? As ’n mens ’n uur en ’n half ná middagete dan brood moet eet? Die ambulans, haar ouers se onbewaakte kommer, die skreeremme tot by die hospitaal. Alles van daardie dag is ’n kakofonie. Die radio, sy stem, die buurvrou se klappende plakkies na die telefoon toe. En toe die gedrang van die begrafnis, en toe die bandspeler wat swyg. Dag ná dag. Sy operasies, die plaasweke ... Niks kon haar ooit voorberei het op haar verlorenheid toe hy weg is nie. Nooit sou sy ’n profeet geglo het wat so ’n gesig voorspel het nie: die ontredderde eensaamheid en die ontgogeling van wat nog op hulle gewag het. Die spil van hulle bestaan is weg toe Rouxtjie weg is, die kompas van hulle doen en late. Op sy sterfdag het die huis se asem opgeraak. Sy sit liewer plat op die grond voor die toiletbak, haar bene kan nie meer nie. Fokus sy nog of swem hierdie kamer? Hulle het toe nie ander mense geword nie. Die “spesiale gesin” aan wie die Here Rouxtjie gegee het, was op, dominee. En niks kon die stilte doof nie. Ook nie die verlange nie. O Here, wie sal haar glo dat sy hom wou terughê? Terug, tot teen haar bors as dit moes! Haar boetie met die beklemmende liefde vir haar wat hy nie kon verhelp nie. Haar boetie wat eintlik niks kon verhelp nie. Haar bóétie. Sy vat die wasbak vas, druk die prop in en skrik vir haar hol wange in die spieël. Blind luister sy hoe die water in die oorloopgaatjie se keel verdwyn. Sy moet net nie nou flou word nie.
Karen het stadig geword, het die kinders daardie atletiekseisoen vir mekaar gefluister. Ja, sy het uitgebrand, het sy gesê vir die universiteit se sportsielkundige waarnatoe die desperate onderwyser haar gesleep het. Sy was verlig oor die bestaan van so ’n woord, oor die afkeer waarmee hy na haar stomp gekoude naels gekyk het. Niks kon die lood van hierdie nuwe, erger doodsheid in haar bene lig nie. En wat het vir haar oorgebly behalwe die bitter getreur waarvan die grys sirkelvere onder haar bed en die vloerlys getuie was? Dit is waartoe jou gewete jou vonnis. As sy net ’n warm waslap oor haar oë kan sit. Het sy kinderlik gemeen Michael sou alles soos van ouds weer aanmekaar kon sit? ’n Dokter moet mos kan. Wou sy hê Michael moet die spoel terugdraai, die gekrr-krr van die filmpie, tot by die rooi waar alles begin het? Maar terugdraai waarnatoe? Na voor sy die volumeknop van die radio verstel het? Maar die dae van ontkenning as tydelike ontvlugting is verby, dit weet sy tussen hierdie kleimure, rou balke en onbehandelde tou. Om bloot te bieg is om dinge sagter te wil lieg, sê haar pa. En wat dan van die projek? Wat sal haar nou red? Is daar iets wat die tirannie van skuld kan besweer? Wat ’n ironie sal dit nie wees as sy hier iets moet oorkom nie, en almal het vir die baba gevrees. As hierdie Bartolomeusnag net verby kan kom. Hoe lank kan dit nog wees voor Oumu kom? Sy moet weer ’n Betaperamide drink.
Hoofstuk 36
Sy senuwees is so rou soos die nat biltonge wat hy Johannes eenmaal in die bytende Gautengse winterlug help ophang het. Iewers bokant hom uit ’n blyplek hoor hy die sagte, verdoemende gedoef van ’n radio, soos voor Karen se immer toe kamerdeur toe sy ’n tiener was. Doer ver voor klim Oumu in die viertrek, as hy die wildewragtigstrik so kyk. Op dié afstand kan ’n ou se oë jou bedrieg oor wat in die skaduwee aangaan. Is dit Karen by haar, of weer gister se wit vrou? Gisteroggend het Oumu net vir ’n rukkie saam met dié rondgery en Karen en die baba het, sover hy kon sien, die hele dag in die hotel gebly. Kan die baba siek wees? Dit is seker veiliger om agter die voertuig aan te ry. Karen sal tog hier in Mali soos ’n Rut gaan waar Oumu gaan, of hoe? By die hotel kan hy dalk aandag trek, vir ’n tweede dag so heeldag in ’n motor op dieselfde plek, en dit boonop met ’n skelm verkyker. Met dié moulose hemp sal Karen gelukkig nie eens twee keer na hom kyk as sy hom dalk gewaar nie. In so ’n frokkie en plakkies het sy haar pa nog nooit gesien nie. Maar by ’n tulband trek hy die streep; die sonbril en die breërandhoed moet maar die ding doen. Soos dit is, gaap die bleddie kraaie reeds. As daar net eers ’n voertuig tussen hom en die geel gevaarte inglip, kan hy nader ry. Laat hy dan dié keer minstens net die vrede bewaar. Dat hy niks hoef te sê nie, maar net daar kan wees as iets skeefloop. Kyk, hy hét al die jare stilgebly. Mens se kind bly jou bloed, selfs meer as jou broers. Sy dogtertjie. Hoe sal Karen ooit weet hoe ’n pa hom kan kasty oor wat alles verby is? Oor elke uiteindelike afkyk van haar as sy die sweetpakbaadjie kom aantrek het, want mens gooi nie dadelik jou arms oop dat almal op die pawiljoen
moet sien dit is jou kind wat weer gewen het nie; mens help eers jou seun wat nie die papier van die strooitjie afkry nie. Die een wat sit langs sy inmekaargedrukte rolstoel. Mens verknies jou oor die verlate voete wat uitsteek onder die moerbei, en oor die moedelose voerlepel in ’n kind se hand. Ook met haar kon hy as “paterfamilias” eintlik net met “feilbaar” allitereer. As dit nodig raak, het hy darem die verskoning van daardie fisikaprof van Ikeys se gemaakte soektog na die wetenskapmanuskripte in Timboektoe. Gelukkig het iemand die DVD oor die antieke sterrekundiges by die departement kom vertoon. Dit is ook waaroor hy en sy opvolger gesels het toe dié hom sowaar ná die gewraakte werkswinkel vir die dosente vir ete uitgeneem het. Sou die belaglike skinderstorie by hom uitgekom het dat Hendrik ná sy kind se dood sy oemf as dosent verloor en meer dikwels uit die departement verdwyn het? Vir iemand wat nooit uiteet nie was die ete lekker, en die man is bleddie goeie geselskap daarby. “Wat my fassineer, is die trigometrie wat die Moslems gebruik het om die presiese rigting na Mekka te bepaal, en dat hulle soeke om die regte gebedstye vas te stel sowaar al in die elfde eeu geboorte gegee het aan hulle tydmeetkunde,” was Govender se reaksie nog. Hel, hier raak die verkeer skielik druk. Hulle het op ’n hoofaar beland. As hy die spul om hom so bekyk, is bid seker wragtig al waarvoor hulle betyds … Bliksem. Die geel viertrek ry voor hom oor seker een van die enigste tien verkeersligte in die hele bleddie Bamako en hy sit gestrand. En dit lyk asof elke taxi en donkiekar in die hele Mali uit die dwarsverkeer agter sy dogter aan opdraai. Bokke blêr en toeters moedig mekaar aan. As die lig oorslaan, moet hy laat wiel, as hy hulle nie al klaar laat wegkom het nie. Toe die groen flits, gee hy vet sonder om die diesel kans te gee om te sluk. “Gadwar!” Hy skop ankers. O hel. Hy het iets gestamp, ’n fiets, jy sien net plastiekbottels trek. En daar lê ’n
man in ’n rok plat op sy maag. Hoe het dit gebeur? Hy skakel die voertuig af en haas hom om te sien of die gryskop seergekry het. Gaan hy nou in helse moeilikheid wees? Sy hart klop soos ’n hasie s’n. Gaan hy hier in Afrika opgesluit word in ’n tronk sonder sleutel en met ’n rotbevolking wat Taipei yl bewoon laat lyk? “Babu!” skree iemand, maar, kan hy sweer, halfverwonderd. Genoeg kinders in hierdie land het al aan hom kom vat en hom ge-babu ça va dat hy weet dit beteken “wit man”. Die slagoffer word opgehelp, slaan die stof van sy knieë af en begin wonderbaarlik agter sy waterbottels aan hinkepink. ’n Paar jonges help hom optel. Om hulle zoem die motors en motorfietse verby met ’n ongekende gelatenheid. Hendrik staan verdwaas. Sal “ek is jammer” in watter taal ook al ’n skuldbekentenis wees wat jou aanspreeklik maak? Het die man se mankolieke vrag nie dalk voor hom ingewankel nie? Iemand bring ’n heel boks vir die waterbottels nader en iewers het ’n stuk tou vandaan gekom. Die omstanders help die man om die karton op sy fiets te prakseer, maar sy voorwiel staan windskeef. ’n Verkeersbeampte verskyn uit die niet. “Jou bestuurderslisensie, meneer?” vra dié dadelik. Hy hóór die seldeure klap. Kan die uniform nie maar een van die vyf en sewentig persent ongeletterdes wees dat hy nie ’n ongeluksverslag kan invul nie, bid hy. As jy aanjaag in Afrika … “Afrique du Sud,” lees die konstabel hardop. En “Thabo Mbeki,” sê hy ingenome. Dank die hemel weer vir die mannetjie met die bokbaard se stofkwassies oor al daai motgevrete papier in Timboektoe. Hel, en hy dag altyd Madiba magic is al wat mens op hierdie vasteland sal red. Die beampte stap na die ou man toe, maar dié skud net sy kop. Iemand wys na ’n
stukkende plek op sy elmboog iewers in die pouslike moue van sy hemprok. Maar nee, beduie hy steeds, hy is reg. Toe beduie die wetsman Hendrik moet die kattebak oopmaak. Hy kloek verbaas oor al die medisyne. “Is jy ’n dokter?” vra hy. Hendrik lig sy arms in ’n hulpelose gebaar. “Ek is baie jammer,” sê hy. En pluk op die ingewing van die oomblik vir die ou man ’n pakkie Grandpa en spierverslappers uit vir as hy later styf en seer word. “Aspirien uit Suid-Afrika,” sê hy vir hom, en gee vir hom die ekwivalent van ’n tweehonderdrandnoot. “Vir jou fiets.” Die madala se oë peul uit en eers lyk dit sowaar asof hy dit nie wil vat nie, maar Hendrik vat hom gemeensaam aan die skouer. As dit is wat die gemors hom kos, sal hy baie lig daarvan afkom. “Waarheen is jy op pad?” vra die beampte. “Timboektoe,” sê hy sommer, dat die man moet dink hy neem voorrade vir mense in onherbergsame gebiede, vir die bleddie Toearegs in die woestyn, vir wie ook al. “Kom saam,” sê die man, en klim sonder meer voor by hom in die viertrek. Wie sal durf weier?
Hoofstuk 37
“Die bogolan vertel nie ’n enkele verhaal nie,” sê die gids met ’n maklike glimlag en vee sy slierthare agtertoe. “Jy kan dit op vele maniere interpreteer.” Sy kyk weer na die see van lappe om haar: geel en rooi oker, swart, bruin, grys, mosterd en wit, ’n olyfgroen. Na die patrone, die kolle, sirkels, kruise, driehoeke, sigsaglyne en chevrons wat op elke modderdoek ’n ander lê kry. Kan dit wees dat minerale en plantkleursels saam met bas, blare en ysterryke modder dit alles tot stand bring? Dat die vaal blaartjies van die indigostruik die gesogte swartblou skep? Haar pa sou die verduidelikings geniet het; sy kan hom die reaksie tussen die ysteroksied en tanniensuur op ’n swartbord sien uiteensit. “Dit is Mali se aarde, sy plante, riviere en son wat modderdoek maak, het ene Kardidra Coulibaly gesê,” vertel die gids. Sy lag; dit is waar! Oumu het vroeër saam met haar deur die spinwieltrappers en wewers se ruimte gestap. Mans beman die weefgetou, vleg die spoel vaardig deur en stamp die draad vas, en vroue kleur die katoen met betekenis in. Maar wat ’n heerlike ironie is dit nie: Dit is die agtergrond wat tydsaam ingeverf word, nie die patrone nie. “Die jagter wat na die koning toe kom en vir hom van Sunjata se geboorte vertel, dra ’n rooi bogolanfini wat met die bas van die n’bekuboom gekleur is,” het Oumu verduidelik. “Sy hemp is die ene kauriskulpe. Dit wys hy is ’n meester, ’n voorste jagter.” Rooi beteken bloed en transformasie, en swart – die kleur van die Niger se modder – vrugbaarheid. En wit? Sowaar die dood en reinheid.
Miskien sal hierdie aardse rooi nie ’n sleg kontraskleur vir die projek wees nie. Oumu het nou gaan rondloop. Sonder haar het sy dit nie hier gemaak nie. ’n Franse meisie met ’n noodhulples of wat agter die blad het gister saam met Oumu gery om vir haar ’n inspuiting by een van die klinieke vir immigrante te gaan kry, en koeldrank met elektroliete by die “internasionale” winkel. En toe het Oumu Pikaninie opgepas dat sy kon rus. Vanoggend was die meisie maar te bly om weer saam met Oumu ’n geleentheid in stad toe te kry toe dié gou gaan water, vrugte en blikkieskos koop het terwyl die baba nog slaap. “Want die vroue langs die pad met hulle potte oor ’n vlam is Mali se McDonald’s,” het Oumu gelag. “Kom verf saam met ons,” nooi ’n Amerikaanse gesin wat ekstra betaal vir ’n praktiese demonstrasie van die kleurproses. Die oudste dogter het al aan die begin van die kort toer die baba geannekseer. “Ek sal vir julle die betekenis van die patrone verduidelik en dan verf elkeen sy eie storie voor ons die materiaal in die fikseermiddel sit,” sê die gids, en wys oor die maag van sy eie bogolanhemp. En, verduidelik hy, die blokhakie met ’n streep deur is die simbool vir vriendskap, en die onvoltooide vierkant met die kol in die middel dui op reis. Sy verwonder haar aan die skaamteloosheid waarmee die Amerikaners kaalskouer in ’n Moslem-land loop; iets waarteen Ben en Oumu haar ondanks die hitte gewaarsku het. En hoe onbevange die Brady Bunch hulle stokkies in die modder doop en begin verf. Die tiener verf sommer so óm die baba op haar flenter katoen. In haar kop verf sy twee chevrons wat die moeder en die vader aandui, en ’n sirkel met die kol in die middel: ’n gesinsvergadering. En ’n sigsagpatroon wat daarop dui dat iets verkeerd geloop het. ’n Vry tekenhand het sy nog altyd, selfs in haar kinderjare, gehad, maar sy lig net haar hande hulpeloos toe die gids sy wenkbroue saamtrek omdat sy ’n kaal geel lap in die beitsmiddel doop: “Ek kan nog nie hierdie storie teken nie.”
Ná hulle besoek aan die pottebakkerydorp, wat bootlangs sowat ’n uur uit Ségou
is, klim hulle op die groot houtkano terug. “Daardie Franse fassineer my,” sê sy vir Oumu. Maar Oumu gaan leen eers by die stuurman op die verste punt van die vaartuig sy kalbas om drinkwater uit die Niger te skep. Sy lig net haar hand in ’n nee dankie vir die bottelwater, al staan daar ’n klompie vroue stroomop op die oewer en klere was en lag. “My ma sal haar doodskaam as haar dogter Perrier-water drink, Karen.” “Ek dink my pa tien teen een ook, Oumu.” Sy sit in die middel van die smal houtbank sodat die son Pikaninie nie kan bykom verby die dak van palmtakke, of sy weerkaatsing op die water in die kind se ogies kan flits nie. Hy sal seker weer, soos op die rit hierheen, saam met die gepoer-poer van die buiteboordenjin insluimer. Die breë stroom met sy klein golwe is sowaar die N’ger-n-gereo, die rivier van riviere. Die bome op die verste oewer lyk skoon na struike. Die druppels blink nog om haar lippe toe Oumu kom sit. “Hoekom fassineer hulle jou, Karen? Omdat die Franse die dorp se hoofman meer betaal sodat hulle vir twee nagte kan oorbly?” “Nee, dat hulle sowaar al die pad van Frankryk af reis om basiese beginsels te leer wat hulle in enige pottebakkeryklas onder die knie kan kry, maar hulle wil hulle hande hier in Mali se grond kom vuilmaak. Wil hulle by die hart van die tradisie uitkom? Wil hulle op die outentiekste manier moontlik met die klei werk om die tegnieke aan te leer wat vir eeue onaangeraak gebly het? Of is hulle net kulturele toeriste, dalk ’n bietjie ernstiger oor die storie as die Amerikaners?” “Wat is hierdie tradisie waarvan jy praat?” frons Oumu. Vir die eerste keer vandat hulle in die land aangekom het, lyk sy eintlik skoon kwaai, soos daar aan die begin in Suid-Afrika. “Wat beteken ‘outentiek’ nogal? Kultuur bly mos groei, niks bly dieselfde nie. Wil jy vashaak in Sunjata se tyd, die dertiende eeu, wil jy die sewentiende eeu hê, of 1860, net voor die Franse kolonialiste na Mali toe gekom het? Julle in die Weste spog met julle tegnologie en die internet, maar julle wil hê ons moet aards bly. Of onskuldig. By koperringe en houtvure.”
Karen steier onder die beskuldiging. Sy dag mos sy hoor Oumu brom toe sy op die eiland gevra het of alles, van die reusekruike tot die asbakkies, op die oop vuur of in oonde gebak word. “Maar Oumu, daardie reisskrywer waaroor ons gesels het, het dan gesê Afrika het nie net ’n geskiedenis van oorloë en veldslae nie. Een van die ander kenmerke van die vasteland is sy vermoë om uit te hou, en om vas te hou aan die tradisionele manier van doen.” Oumu waai eers vir drie kinders op die oewer wat kom water skep. Haar lippe vorm ’n groet, want hulle is te ver om haar te kan hoor. “Kyk, Karen, daar is omtrent nie ’n Afrika-tradisie waarvan my ma my nie met trots vertel het nie. Uithou kan ons, en dit soms so vernuftig soos kewers water opvang in ’n woestyn. Maar dit is nie al waaroor Afrika gaan nie.” “Ek sê nie dinge moet bly soos dit was nie, inteendeel, dis net vir my lekker dat julle die tradisionele bewaar. Ek wil regtig net reg laat geskied met my projek, Oumu. Die allerlaaste ding wat ek wil doen, is om die kolonialisme se vergrype te bevestig.” “Kyk dan hoe die kreatiwiteit nuwe kleintjies kry. Julle Westerlinge kyk te vlak. Jy Karen, jy bly my uitvra oor die modderdoekpatrone. Hierdie patroon, daardie patroon. Wat die gids nie vir jou sê nie, is dat die ontwerpe die betekenis verbloem. Die vroue wil hê dit moet onverstaanbaar wees. Daar is nie so iets soos ’n ‘oulike’ patroon nie. Julle kyk, maar julle sien nie. Net soos julle televisie dink Afrika is een sinnetjie, soos ’n storie vir ’n kind.” “Maar dit is presies wat ek nie met die projek wil doen nie, Oumu. Vra vir Ben, hy dink ek is mal om te bly krap tot ek agter die kap van die byl van ’n hele storie kom. Jy moet my glo.” Die plooi op Oumu se voorkop laat dit lyk asof sy vir ’n oomblik oorweeg wat sy sê. “Die patrone, dit het historiese betekenisse, daar is tot spreekwoorde in. Niks is net waarna dit op die oog af lyk nie. Partykeer is selfs die manier waarop die patrone saamgevoeg is ’n sleutel. Maar daardie kennis is vir die binnekring. Nie eens dié wat eerlik probeer, kan dit snap nie, die betekenis word te diep verdoesel.” “Oumu, word die Bamana se hele geskiedenis op dié manier weggesteek?”
“In die Dogon-landstreek is daar ook baie dinge wat onder die oppervlak bly. Sy kyk stuurs oor die water. “Miskien moet jy dit ook sien.” Maar hulle draai mos by Mopti om, wat nog ’n dagreis of twee, drie voor Timboektoe is soos Oumu die prentjie op die vliegtuig geskets het. Sy wens weer sy het uit die staanspoor dié dele nagevors, en Dominique die geskiedenis verder suid. “Ja, dis jammer ons sal nie daarvoor tyd hê nie, Oumu. Ek wens ek het die tyd en die geld gehad dat ek alles kon sien. Maar ons moet ter wille van my kind tussenin ook rus.” Dié kwê aanmekaar, hy verseg om aan die slaap te raak. Toe sy hom moedeloos teen haar skouer sus, vee Oumu oor sy koppie. “Jy het gelag toe ek vir jou sê die vrou spoel haar mond met die laaste spoelwater van die bogolanfini uit sodat die geeste haar nie moet beetkry nie. Jy vis uit oor patrone, maar jy wil dalk nie hoor dat die doeke vir ons ook spiritueel is nie. Julle brand om die mites te hoor, maar dan raak julle gou bang vir toordokterpraatjies. “Die jagters, hulle beskerm hulle mense, en die hemde help hulle. Net so is die vroue se inisiasie deel van ons mitologie. Die geskiedenis sê vir ons mense wie hulle is; dit het ek by my ma geleer soos by geen filosoof nie.” “Het jy al weer iets oor jou ma gehoor, Oumu? Hoe gou sal jy by haar kan uitkom as ons terug in Bamako is?” Maar Oumu raak doenig met haar kopdoek sodat net die geklots teen die boot opklink. ’n Visser ver agter hulle in die stroom staan regop in sy pirot en gooi sy net uit, en die geswoesj trek oor die kalm water tot by hulle. Waar die rivier ’n draai maak, sien sy in ’n sytak ’n reier tussen waterlelies in die skerp winterson, en lig haar kamera. Sy probeer nie eens meer mense skelm afneem nie. Oumu sien dit nogal raak. Ná ’n lang stilte praat haar toergids tog. “Die doek is soos die griots, Karen, hulle vertel nie vir jou alles wat hulle weet nie. Die Weste vra vir ‘die hele storie’. Wat is ‘die hele storie’ nogal? Julle is te bang om dit te hoor. Ek het dit in Suid-Afrika ook gesien.” Toe Pikaninie begin huil, weet sy onmiddellik daar is fout. Sy wou eers sy rooierigheid toeskryf aan die hitte, maar nou voel sy lyfie vuurwarm. Die
Panadostroop is darem byderhand. Ai, en sy het so gehoop sy moes dalk die peste trotseer sodat hy daarvan gespaar kan bly. Hulle moenie ’n dag langer in Mali bly as wat absoluut nodig is nie. “Oumu, daardie soutblaaie beter naby wees. Sal ons hulle dalk al hierlangs raakloop?” “Die tyd is nog nie ryp nie. Jy sal nog die blaaie sien. Kom ek kry gou eers ’n bietjie water.” Sy stroop haar kind se klere af en met die hulp van die geleende kalbas probeer sy en Oumu hom afkoel. Gelukkig kan hulle al die vasmeerplek sien, die kaai se bedrywigheid en die groentelandjies op die oewer. En dankie tog, die hotel is ’n ordentlike plek.
Hoofstuk 38
Toe Hendrik uiteindelik die middag by die Danunzo-hotel aankom, is daar g’n teken van die geel viertrek nie. Sy moed sak in sy skoene. Hy sal dit wragtig moet waag en die hotel binnegaan, of nee, hy kan sy nuut verworwe reismaat instuur. “Vra vir die jong wit vrou met die baba en haar vriendin, Oumu Touré, asseblief. Is hulle nog in die hotel? Sê maar vir hulle jy is ’n vriend van Oumu.” Souleymane klim ewe uit en stap na die voordeur. Wat kan hy sê? Hy is net deksels bly daar het so min van die hele fietspetalje gekom. Die verkeersman wou van alle plekke vir hom ’n apteek gaan wys. En om alles te kroon ’n apteek waarin jy elke voorskrifmedisyne onder die son kan kry, sonder ’n bleddie voorskrif. Die Franse chemiese terme is vir hom natuurlik Grieks, maar die groen Pharmacie-kruise hang glo in elke groot dorp in Mali. Sal sy apteker op Stellenbosch agterna al die bokse terugruil? Al babamedisyne wat hy nie ingepak het nie, is Fissan-salf, en dit net omdat hulle slegs Boggher Brandboudjies of die een of ander generiese plaasvervanger op die rak gehad het. Maar die verkeersman “dokter” hom wat Hendrik is toe voor en agter, wat op die oor af seker nie heeltemal onwaar is nie. En toe tref dit die geregsdienaar dat ’n vriend, ook ’n staatsamptenaar, juis ’n geleentheid na Mopti soek vir sy dogter se besnydenis. Hel, maak dit ’n ou aandadig? Hulle twee sê in Mali sal jy omtrent jou nek breek om ’n geleentheid te kry, veral as dit nie met ’n openbare bus hoef te wees nie. Met ’n geleerde mens soos Souleymane kan hy minstens lekker kommunikeer, en Ben sê mos misdaad is kwansuis nie in Malinese se woordeskat nie. Nou ja, miskien is die rygenoot ook ’n bestiering omdat hy dan so ’n bietjie kan
bedaar oor die roete in hierdie warboel van ’n plek. Vier oë is beter as twee. “Hulle is al vanoggend weg Ségou toe,” sê Souleymane toe hy terugklim in die motor. “Hoe ver is Ségou?” “Nie ver nie.” Maar toe hy Hendrik se angstigheid gewaar, voeg hy darem by: “Sê twee honderd en dertig kilometer.” Hel, in hierdie verkeer en met die slaggate wat hy verwag, beteken dit seker ’n hele paar uur se ry. Sal hy voor donker daar kom? En waar gaan hy sy dogter in die hande kry? Gelukkig staan al die vragmotors wat nie bedags in Bamako mag rondry nie nog bankvas geparkeer, ’n dik soom aan die hoofpad. “O, ek is so bly dat ek kan saamry,” sê Souleymane, sy kuiltjies halfpermanent ingeduik van lewensblyheid. “Ek is so dankbaar my vriend het my in gedagte gehou toe hy jou raakloop. My dogter is beeldskoon en my vrou gaan so bly wees om my te sien,” babbel hy soos toe hulle ontmoet het. Maar sy selfoon se gelui onderbreek hom eers; hy praat seker Bambara, en sy hande beduie wild en wakker. “My gesin is baie bly dat ek so vroeg kom,” sing Souleymane. “Sien jy die vordering in ons land?” Hy wys na ’n satellietskottel wat ’n ou voor op sy fiets balanseer. Nee, hierdie mense sal seker vrek van die honger as daar ’n droogte is, of fout kom met die Niger, maar hulle sal verdomp met waardigheid in ’n Verenigde Nasies-voedselry staan. “Dokter, is jy in Mali vir jou dogter?” “Hendrik, nie dokter nie, asseblief, Souleymane.” Netnou moet hy nog op ’n plek ’n bleddie arm spalk. “Maar ja, my skoonseun werk by ’n goudmyn in die weste van Mali, en hy het my gevra om ’n ogie oor sy vrou te hou.” Die leuen brand skoon sy tong. “Is sy dan wild? Dis omdat sy nie besny is nie,” sê Souleymane asof dit ’n wet
van Mede en Perse is. Hendrik stik so in die waterbottel voor sy mond dat Souleymane na die wiel gryp. “Maak al die mense in Mali diere so vas?” vra hy liewer toe hy klaar gehoes het. Voor hulle ry ’n taxi waarop ’n paar bokke in ’n lêposisie op die dak met toue vasgebind is. In al sy jare op die plaas het hy wraggies … “Die bokke is op pad mark toe. Die boer is gelukkig, want dit is vet bokke. Jou seun sal weet, Mali is ’n wonderlike land vir goud. Lees ons geskiedenis. Mansa Musa is die man wat in die veertiende eeu na Mekka toe is met goud uit die Futa Djalon, die berg waar die Niger begin. Ons het daardie tyd goud vir sout uit die noorde verruil, vra vir enige skoolkind. Hy het so baie goud saamgevat, Egipte se hele geldstelsel het inmekaargestort. Maar vir die terugkomslag moes hy geld leen,” lag Souleymane. Hendrik swenk net betyds uit vir ’n slaggat in die teer. “Hoekom, het die kamele of die mooi vroue in Egipte te veel gekos?” “Ja, die slawemeisies vir sy ellelange gevolg,” lag Souleymane weer. “Maar hy het ook baie geskenke uitgedeel, en op sy pelgrimstog het hy ’n digter en argitek ontmoet en hom na Mali genooi om van die stede mooi te maak.” Hendrik skud net sy kop, en hulle lag. “Nee, dit is goed as jou dogter getroud is met ’n mynman wat van goud weet.” “En jy, Souleymane, met watse man sal jou dogtertjie eendag trou?” vra Hendrik geamuseerd. Hy wys na ’n jong vrou langs die pad wat by ’n piramide papajas sit in nog een van die dorpies, wat eintlik net ’n paar platdakmodderhuise en ’n klein moskee met ’n silwer maan en sterre van blik is. “Kyk, Hendrik, die ringkoppe hou nou juis kajuitraad.” Souleymane wys na ’n grasdakafskorting aan die oorkant. Dit raak al sterk skemer, en dit is asof ’n nog groter gemeensaamheid tussen hulle posgevat het in die donker.
“Solank my kind net nie afhaak met ’n staatsamptenaar nie, Hendrik!” Hulle lag. Souleymane tik op die Mali-gidsboek in die rakkie tussen hulle. “Maar jy vra my seker nou uit oor die etniese groepe waarvoor sulke boeke so lief is, of hoe?” Hulle lag weer. “Die metaalwerkers is die magtigste klas, en die griots, leerwerkers, pottebakkers en vissers kom daarna. Maar mý dogter sal nie met iemand so eenvoudig soos ’n musikant trou nie, ook nie met ’n metaalwerker nie, want hulle hou hulle te veel op met geeste. Die mistieke van hulle nering kom voor die hamer en die aambeeld. Die griots is weer bedelaars; party mans sal mos lieg vir geld.” “En die Fulani waarvan die boek praat? Die beesboere met die leerhoede? Miskien het hulle baie diere en kan ’n man lekker vet word uit jou skoonseun se kraal?” Souleymane sit en wik en weeg. “Soort soek nog partykeer soort hier by ons, Hendrik. Die Fulani dink hulle is baie mooi. Ek weet nie of dit waar is nie, maar hulle sê ’n man sal sy vrou by ’n ander, aantrekliker man laat slaap om ’n mooier kind te kan kry.” Hy fluit ongelowig. “En jy, wat dink jy, Souleymane?” “Babu, ek weet nie. Weet jy van Sunjata? Hy was ’n groot heerser, en weet jy wat die griots oor hom gesê het? Hulle het gesê: ‘Miskien sal jy koning word. Jy kan niks daaraan doen nie. Jy kan ook ongelukkig wees, maar daaraan kan jy ook niks doen nie. Elke man se pad is vir hom uitgestippel en hy kan dit nie verander nie.’ Dit is wat hulle sê. Maar ek dink tog Sunjata het sy pad verander. Ek weet net nie nou al van my dogter se pad nie.” Ná ’n lang ruk voel hy Souleymane se vraende oë op hom, of hy nou nie langer saampraat nie. “Mens weet nie, nè? Maar noudat jy dit sê, my dogter sal ook ’n digter en argitek uitnooi tot haar geld op is, Souleymane.”
“Sien jy hierdie bordjie? Ek dink dit is die hotel waar jou dogter sal bly,” sê die wakker navigator. As jy ’n stoffie uit jou oog sou vryf, sou jy nooit as te nimmer dié wegsteekbordjie in die stikdonkerte raakgesien het nie. Sal ’n mens met ’n sonbril op aandete kan bestel?
Hoofstuk 39
Is dit die soort goed waardeur haar ouers met Rouxtjie is? wonder sy ná donker. Sy voel soos voor sy daardie keer na Michael toe is, en Ben is nie hier om te help raakvat nie. Oumu wou haar al buitentoe jaag om na die sonsondergang oor die rivier te gaan kyk sodat haar senuwees kan kalmeer, maar dit voel die hele tyd asof sy gaan ophou asemhaal van spanning. As die baba hier iets moet oorkom! Is dit hierdie magteloosheid wat jou so obsessief oor ’n kind maak? Is dit wat haar pa bedoel het toe hy op daardie reise die binneland in en kuslangs vir haar ma gepleit en gesê het: “Jou ma het sowaar meer gely as ek”? Teen dié tyd is sy self in sweet gebaai. Sy moes nie gekom het nie. Ben was reg, dit was onverantwoordelik verby. Wat sou haar ma gesê het as sy haar tog gevra het om haar kleinkind op te pas terwyl sy in Mali is? Maar miskien sou sy net in twee geskeur gewees het omdat sy haar klaar tot oom Johannes se versorging verbind het. Dit is hoe haar ma is. “Oumu, vertel tog vir my van jou ma,” vra sy om haar kop besig te kry. “En het jy al nuus gekry vandat ons hier is?” Sy krap eers kop. “Sy is ook maar ’n moederhen, so aan die kloek soos jy nou is. Haar grootste vrees was altyd dat een van haar kuikens sal wegraak. Miskien was dit omdat sy self ’n bietjie uitgelewer was. Haar ma, wat nog nie eens geweet het sy verwag ’n baba nie, is tydens ’n verskriklike droogte as jong meisie aan ’n ryk gesin afgestaan in ruil vir kos vir haar eie mense. My ma het altyd gesê my oupagrootjie moes baie desperaat gewees het.” “Wat, Oumu, is sy weggegee as ’n soort slaaf?” “Dit is seker wat mense dit sal noem, maar dit is nogal partykeer gedoen om die dienste van ’n familielid uit te verhuur sodat die res aan die lewe kon bly, soos ons ook maar aan werkgewers uitgelewer is.”
“Maar Oumu, AngloGold het jou en ook Ben darem seker nooit besit nie!” “Wel, ek weet ook nie hoe my oupagrootjie sou gereageer het as my ouma ’n kind buite die eg onder sy dak gekry het nie. En baie jong meisies wat aan ander gesinne afgestaan is, is dikwels in daardie families opgeneem as een van hulle. So my ma het nie juis ’n ander lewe geken nie, maar ek dink sy het tog maar ’n bietjie van my ouma se vervreemding ervaar. En sy sou seker self gedoem gewees het as sy nie so mooi soos ’n frangipaniblom was nie. Om buite jou stand te trou, is vandag nog moeilik, maar gelukkig het my pa, die swartskaap uit nog ’n ryk familie, haar raakgesien. En sy was toe tog eintlik self ’n lid van die ryk familie. “Hoe lyk die baba?” Oumu buig oor hom en sit haar lippe op sy voorkoppie. “Ek dink ons en die nat handdoek begin die stryd wen, Karen,” verhelder sy. En sowaar, die koorspen wys ’n halwe graad laer. Dank die hemele, as dit nou net so kan aanhou. “Maar het die feit dat jy so die wêreld vol was nie beteken dat jou ma wel een van haar kuikens verloor het nie, Oumu?” “Dis hoekom ek so verskriklik bly is dat ek terug is dat ek haar kan sien, Karen, en sy vir my, die vrug van haar toewyding. En sy sal mos agterkom my spinwiel trap nog met Mali se ritme. Of ek hoop so. Laas het sy elke anekdote oor ’n baas wat vir my die kleinste kompliment gegee of na my geluister het, opgeslurp. Is dit nie die lekkerste van mens se ma nie? My pa eintlik ook.” “Maar Oumu, as mens so ver woon, is dit seker ook makliker om die skandes en skades van haar weg te hou, of hoe?” “Dink jy ek moet dalk nie vir haar sê ek het nie nou werk nie? Ek wens eintlik ek kan daaroor op haar skouer huil dat dit maar net nog ’n sandstorm is wat sal verbywaai. Wat haar sal teleurstel, is as een van haar kinders deur onwaardige optrede afbreuk doen aan ons erfenis en roeping. Selfs as jy jok, moet jy ’n baie goeie rede hê. Dink jy ek kan in dié geval maar jok?” “Gits, Oumu, ek ken nie jou ma nie. Maar sy is baie siek, sal jou nuus haar nie net verder ontstel nie?” Dit lyk sowaar of die handdoek, die Panadostroop en die setpil die ding gedoen
het. Hy sluimer uiteindelik in. Ook Oumu het haar uitgestrek op haar bed. “Ek dink in ’n harde land soos dié is lewe en dood dalk die dinge waaroor my ma nog ontsteld sal raak, Karen. En ek dink ook nie ek het weggeraak nie. Ek dink nie daar is ’n mens wat trotser is op Afrika se geskiedenis as my ma nie, en sy het haar kinders geleer dat ons op grond daarvan juis kan aangaan, en moet aangaan die wye wêreld in. Met ’n dapper verlede agter mens, hoef jy vir niemand anders agteruit te staan of verleë te wees nie. Die pronkerige manier van stap wat die Toearegs het, daar is nogal ’n iets daarvan in my ma, en sy het dit aan ons oorgedra. En seker aan haar broertjies ook, want dié moes sy ook help grootmaak.” Sy vryf die muskietweerder so versigtig as moontlik in om Pikaninie so min as moontlik te steur, en knoop dan die muskietnet bokant die bed los. Oumu lê haar deur skrefiesoë en dophou. “Karen, waarom lyk jy nog so bekommerd?” “Vergeet van my en sê eers wat jou ma daarvan gedink het dat jy van alle dinge ’n bourekenaar wou word.” Oumu maak haar oë oop en lag. “My pa se familie is messelaars, Karen. Ek wil my verbeel ek het al vir jou in Johannesburg vertel wat ’n trotse tradisie dit is, dat hulle enigste stuk gereedskap ’n troffel is en dat die modderboukuns van geslag tot geslag oorgedra word. Ons bouers woon juis naas mekaar en tussen die Arabiere in dieselfde buurt in Timboektoe. Vir my ma is dit byna poëtiese geregtigheid dat haar dogter ’n beurs kon wen en ’n teller van sementsakke vir die Weste kon word!” Sy hoop net nie Oumu se lui gaap beteken dié gaan gou uitknikker nie. Sy maak die ketel vol bottelwater en pak solank die bababottels en ontbytpap uit. “My ma het al gesê deur die gaasnet van afstand lyk dit nie altyd asof ek my familie teen my bors vertroetel nie.” Mali se lug het Oumu gelukkig nog aan die filosofeer. “Ek is so bang sy sê dit weer, Karen. Maar ek het gewoonlik kontak met my niggies en neefs wat toegang tot e-pos het, en ons SMS natuurlik. Ek wonder of …” Oumu bly skielik stil. “Vriendinne wat oorsee woon, kla maar oor dieselfde hartseer, Oumu.”
“Maar tog, Karen, dink jy dit is regverdig om vir my ma te sê hoe bitter eensaam dit weg van mens se mense kan wees? Hoe jy selfs die hitte wat lug aan die dwarrel kry, kan mis? Hoe dit is tussen ander wat net heeltyd dinge wil hê en hê, al is dit nie eens mooi nie?” Oumu sug moedeloos. “Dit kan seker ’n ouer troos, Oumu, maar ek wonder gewoonlik of hulle nie genoeg moeilikheid van hulle eie het soos dit is nie. Ek sê nie eens vir my pa as ek my motor stamp nie.” Die water vir die handdoek is heerlik koel en sy begin haar arms daarin afspons. Sy sal netnou die res van die blikkie boontjies wat Oumu oopgemaak het, eet. “Ek weet nie, Karen, wat my ma kan dink, maak my baie benoud. Maar miskien sal my ma dit selfs verstaan. Al is myne ’n selfopgelegde ballingskap in teenstelling met dié van die intellektueel Ahmad Baba wat iewers in die sestiende eeu vir soveel jare na Marrakesj weggevoer is. Wat sê jou vriendinne, die global village gaan vandag ook seker maar oor in watter buurt jy in aanvraag is?” Oumu bondel eers haar kussing in ’n harde rolletjie. “Prestasie is darem seker die beste wê as enigeen wil neus optrek oor waar mens vandaan kom, of hoe? Suid-Afrikaners kan hulle darem partymaal vreeslik aanstel.” “Prestasie is nogal iets waarmee ek ook stoei, Oumu. Maar het jy al iets gehoor van jou ma se toestand terwyl jy hier is?” probeer sy weer. “Ek dink darem ek sal betyds wees.” “En die geskiedenis, is dit sy wat vir jou Sunjata se storie geleer het?” “Ja, sy het sommer dikwels ons geskiedenis in die voortyd gaan haal, volgens julle jaartal drie honderd jaar ná Christus, toe die fynste juwele en artefakte op groot skaal by ou Djenné gemaak is. My aarde, jy moet haar hoor. Terwyl Europa in die Middeleeue vasgevang was, was daar ’n marknetwerk, ’n ontwikkelde landbou en ’n belastinggaarder het ’n hele burokrasie aan die gang gehou. Ag, Karen, ek kan jou vir ure verveel. As jy in Timboektoe moet kom, sal my ma dadelik vir jou vertel die Sankoré-moskee was al honderd jaar oud toe die groot sultan Mansu Musa, ’n kleinkind van een van Sunjata se sussies, in die middel dertienhonderds as heerser die eerste goue era ingelei het. En van die leerwerkers en boekbinders en kalligrafieskrywers – van die hele boksemdais.”
Sy trek die driepoot se kieriebene uit terwyl Oumu vertel, en maak die kamera in die hoek van die kamer staan. “Wag net, ek kry net gou die badkamer voor jy verder praat, Oumu.” Sy klik drie keer daar, en een maal met die flitslig, voor sy terugkom kamer toe om op die keramiekblaker in te zoem. “Ek luister, Oumu.” “’n Ou in Johannesburg wou my nie glo nie, maar in die sestiende eeu is materiaal uit Italië, Engeland en Marokko na Timboektoe ingevoer, en Chinese sy en skêre! Dalk moes ek harder met hom baklei het. Dink jy ek het my ma se nalatenskap misken deur my mond te hou? Mens moet ook so oplet wat jy sê, of hulle kan dit teen jou hou. Maar ek moes hom dalk meer voor stok gekry het oor sy beterweterige sinisme.” “Jy kan altyd vir jou ma sê hoe jy my oor bogolan vasgevat het, Oumu.” Sy lag. “Die slim mense sal vir jou sê ons deel van die wêreld was meer as net sout, goud en slawe en karavane kamele,” sê sy op die naat van haar rug. “Maar jy sal seker vir my begin lag as ek so aanhou, Karen. Mens moet oppas, of jy begin nes jou ma klink.” “Oumu, jy moet ook nog vir my die laaste deel van Sunjata se storie vertel,” smeek sy toe sy uiteindelik ophou vroetel. “Ek wil net gou my foto’s aflaai, die dag se notas vir die projek opteken en die tweede deel van Sunjata neerskryf. Netnou kry ek die feite deurmekaar.” “Jy moet dit nie neerskryf nie, Karen. Die griots, hulle vertel ’n storie uit die kop. As mens ’n storie vertel, kan iemand anders mos dieselfde storie vertel. Daar is baie weergawes van een storie, en nie een daarvan is verkeerd nie. Dink jy as jy dit neerskryf dit sal die ‘ware’ weergawe wees?” “Ek sal gou maak, Oumu.” Maar nog voor sy die pen en haar aantekeningboek uit haar sak kan haal, het Oumu aan die slaap geraak.
Toe, op ’n dag toe Sunjata al sewe en nog stywebeen was en die hele koninkryk al saam begin spot het omdat hulle net nie kon dink dat die groot koning wat die jagter in die vooruitsig gestel het ooit die septer sou swaai nie, is Sunjata se ma na die koning se eerste vrou toe. Sogolon wou by haar kremetartblare bedel om
die dis wat sy aan die berei was te geur. Dié het die blare gegee, maar so vermakerig as wat sy kon: “As jou seun kon loop, soos myne, sou hy soos al die ander seuns vir sy ma by die boompie buite die stat kremetartblare gaan pluk het.” En wreed gelag. By die huis gekom, was Sunjata oudergewoonte aan die eet. Hy het die rys sommer so uit die kalbas sit en skep. Sy ma het alle selfbeheersing verloor. “Al wat jy van die môre tot die aand doen, is eet. Jy eet net!” Haar kind kon nie verstaan waarom sy so ontsteld is nie, en toe sy met die storie van die kremetartblare uitkom, het hy aangekondig dat hy dan maar sal begin loop. Hy het ook gevra dat die smede, die magtigste onder al die inwoners van Mande omdat hulle ook spirituele vermoëns het, vir hom ’n ysterstaf maak. Ses smede het kort daarna ’n loodswaar staf aangedra. Met tande wat kners, boarms wat bult van die inspanning en strome sweet langs sy slape het Sunjata hom aan die staf opgehys. Maar toe sy knieë van die grond af lig, het die staf onder die druk tot die kromme van ’n boog vervorm. Toe vra hy ook vir ’n tak van die sonboom, en met dié bykomende kierie het hy sy eerste wankelrige treë gegee. Die seun het vir sy ma gevra of sy die hele kremetart sal wil hê, en ja, die hele boom, het sy gehuil. Hy het die boom buite die stat aan die wortels gaan uitpluk, dit op sy skouers aangedra en by sy ma se agterdeur neffens die groentetuin geplant. Sunjata het lank gevat voor hy bene gekry het, maar hy en sy maats het hierna die wêreld vol gespeel en gejag, die kroonprins die voorbok en beste in alles. Saans het sy ma stories vertel, van Alexander die Grote, die magtige koning wie se son oor die helfte van die wêreld geskyn het, en van magiese geheime en van medisinale plante waarvan elke jagter moet weet. Maar die seun van die leeukoning en die buffelprinses het so gewild geword dat hy ’n bedreiging geraak het vir die eerste vrou se seun, wat ná sy pa se dood
wederregtelik tot koning verklaar is. Die bose koninginmoeder het toe nege hekse gestuur om Sunjata se ma se groentetuin te gaan plunder, in die hoop dat ’n bogsnuiter soos Sunjata hulle wreed sou verwilder. Maar Sunjata se respek vir hulle ouderdom het hom gered. “Kry nog blare, eiervrug en uie, dit behoort aan ons almal,” het hy vir hulle gesê. Nogtans, dit het gevaarlik geraak in Niani. Sogolon moes die kinders wegkry onder die koninginmoeder se magshonger uit. Dié het dan gesorg dat die griot wat aan Sunjata toegewys is, weggestuur is na die hof van die bose koning van Sosso, Soumaoro Kanté. Sunjata moes weggaan uit sy geboorteland. Hy moes wyd gaan reis om te leer wat hy moes leer: oor die handelsroetes en die mense van sy streek, en om bande te bou vir die oorloë wat hy vorentoe moes veg.
Hoofstuk 40
’n “Hôtel de charme” noem Oumu die Ambedjele, die oornagplek met los kamers buite Mopti wat glo op ’n Dogon-dorp geskoei is. En die plek draai omtrent sy krane oop. Hulle het hier ingedraai van die grootpad af en verby droë bome met baie versamelneste gery, soos in die Karoo. “Kyk die baie voëltjies, my liefling,” het sy gesê vir Pikaninie wat uit sy stoeltjie op die agtersitplek saamgesels het. “Gwrrr,” was die lyfie se antwoord. “Die hotel is duur,” fluister Oumu. “Kom ons drink net ’n glas bissapsap by die swembad.” Sy en Oumu maak hulle soos wafferse toeriste op sonbrandstoele tuis, en gelukkig raak Pikaninie gou onder die grasafdak aan die slaap. Toe die kelner die leë glase kom haal, lig sy haar kamera uit die sak. “Die vroue se borste wat boontoe wys op die houtdeure roep na reën,” roep Oumu sag agter haar aan. Sjoe, sy sidder skoon om te dink hoe sy met die uitheemse op loop sou gesit het as sy nie dié dinge deur Oumu se oë kon sien nie. En hoe wens sy Ben was by om dit saam met haar te beleef. Sy verlang. Nog elke SMS het na haar ook gevra, nie net na hulle baba se welstand nie. As sy darem nie sal kan toor in die voorlegging met alles wat sy tot nou in dié wonderlike land gesien het nie. By die huis sal sy dieper kan delf en nog bronne kry, as sy net haar hand op iets meer tasbaars oor die soutroete kan lê. In die kamers word gespeel met modderdoek as sitplekoortreksel, as muurbehangsel, en as kussingsloop op ’n effe bed. Fyn takkies is in ’n vierkantige lampkap se vesels vasgevleg. Sy klik vir ’n vale.
Miskien het die projek tog die potensiaal om iets nuuts te weef. “Sal ons weer by die bogolanstudio in Ségou kan stilhou?” vra sy vir Oumu toe sy terug in die skerp son die ligfilter op haar lens vasdraai. “Ek wil verf hoe ’n storie dalk kan uitkom.” “Nee, daar sal nie tyd wees nie. Kom ons gaan mark toe.” Oumu het Pikaninie reeds opgetel en stryk aan motor toe. “Maar ons het dan seker vier dae oor voor my vlug vertrek? Wag eers!” Sy draai om om gou twee tuinbeelde ook af te neem. Teen die tyd dat sy by die motor kom, sit die outjie vas en slaap in sy stoeltjie. “Daar is meer wat jy oor Mali moet leer.” Oumu begin met die radioknop woel. “Salif Keita is ons grootste sanger, jy moet hom hoor. Hy het ’n vel so wit soos melk, en hy sing soos heuning.” Maar met die pad mark toe het hulle hul lelik misgis. Dit is Vrydagmiddag, en elke man in Mopti is onderweg na die moskee. Wel, behalwe die wit ou wat saam met ’n swart pel in ’n Land Rover aan die bopunt van die hotel se ingangspad gesit het. “Maar Oumu, dit is waarvoor ek gekom het, jy het belowe ons kan mark toe gaan.” “Karen, ek sal nog vir jou sout wys, dit is nie al sout in die hele Mali dié nie. Wees net ’n klein bietjie geduldiger. En dis in elk geval nie waarvoor jy gekom het nie.” Om alles te kroon, het die petrolprys gestyg toe hulle stilhou om vol te maak. En brandstof is reeds so onuitstaanbaar duur. In die nou straatjies kruip die voertuig voetjie vir voetjie verby die see van wit kaftans. Sy kyk skrams na Oumu, wat frons van konsentrasie. Is dit waar wat sy gelees het dat ’n Moslem ’n “ongelowige” soos sy maar mag verneuk? Hoe het die silwer kookpotte agter in die viertrek tussen hulle bagasie beland en
hoekom wou Oumu nie eens haar ekstra goed in Bamako los as alles dan so danig veilig is nie? Nou kan sy nog steeds nie sien of sy iets sal kan maak van die beskrywing van die veertiende-eeuse reisiger Ibn Buttuta nie. Hy het gepraat van die soutmyn Taghaza waar die huise en moskees uit plate sout gebou is, met dakke van kameelvel. Vir hom was dit lelik, die swart van onsuiwerhede gepeper in die vuilwit van soutwater wat in die son tot blokke gekristalliseer het. Maar hoe sal sulke tafelblaaie lyk? Sou Oumu dalk ’n soutplek op hulle reis terug na Bamako vir ’n verrassing gehou het? Terug op die oop pad sit sy met haar rug na die voorruit die baba en voer, maar sy sweer Oumu draai verkeerde kant toe, steeds in die rigting waarheen hulle tot nou toe gery het, pleks van terug na Bamako. “Nee, die son is hoog, Karen, ek draai na die kant toe waar die skadu moet val.”
Souleymane is so ordentlik, hy wou nie eens die hotelkamer in Ségou met hom deel nie. Hendrik kon hom darem in die capitainevis vir aandete inpraat, hoewel dit tussen die reëls geklink het asof die man se vrou dit baie lekkerder as die hotel voorberei. En Mali se bier is bleddie ondrinkbaar. “Nee, nee, Hendrik, my vriend is ’n toergids en hy slaap in die hotel se binnehof op ’n matras. Ek sal by hom kuier, dit is nie koud nie.” Dit was nogal ’n bedekte seën, want toe kon hy ongesteurd sy oor teen Karenhulle se venster gaan druk. Karen wou by Oumu ’n verdomde storie hoor, of so iets, maar, kon hy aflei, die baba is piekfyn. Vir wat draai Karen-hulle nou Douenza se kant toe, hy dog hulle keer nou terug na Bamako? “Nou sal jy my op my voorstoep aflaai, Hendrik,” sê Souleymane toe hy sien die vroue draai links pleks van regs op die grootpad. “Ek is so bitter bly dat ek kon saamry.”
By sy nedersetting aan die grootpad, ’n kilometer of tien verder, groet hulle haastig met ’n stewige handdruk en klap mekaar op die rug. Hoe sê mens in elk geval “gelukkige besnydenis vir jou dogter”? Kry sy ook haar naam op ’n borslapborsspeld gegraveer vir die okkasie? Souleymane staan nog lank en waai, maar hy moet oopmaak om sy dogter in te ry; dit lyk asof Oumu ’n donnerse trein wil haal. Waarheen neuk hulle nou? Maar toe daar nog net een voertuig tussen hulle is en hy effe begin ontspan, is dit asof die eensaamheid saam met die stilte sy sit in die motor kom kry. Vanaand gaan die vure laat en hoog om die modderhuise aan die grootpad brand. En hy gaan seker weer soos ’n struikrower van kamer tot kamer in ’n hotel sluip. Souleymane gaan by sy vrou lê en een van die oumas sal die dogtertjie troos. Miskien is dit een van die goed wat vir hom die allerergste was van Roux se dood, dat sy vrou nooit weer na hom toe wou draai nie. Nie van haar kant af nie en ook nie as sy vingers op haar skouer gevra het nie. Wou sy hom straf vir sy onversigtige reaksie ná die gebeure? Het sy gedink die rouband van onthouding sou Roux eer? Hoe dikwels het hy nie lus gekry om in haar dagboek te kyk nie, na die bladsye waar haar meeste woorde heen is. Dit was altyd die smeersel gom van hulle huwelik. Laataand, as sy eers weer ’n keer gaan seker maak het by Roux se traliebed, sou sy hand oor hare gly as die aanloop tot die soms enigste stukkie hemel van die dag. In die donkerte het Bertha durf lewe. Hoe moeg hulle ook al was, dit was asof hulle albei nie sonder dié ontsnapping na die ongebondenheid van gees en liggaam die opdraandes kon volhou nie. Hulle kortasem spel van opwinding en oorgawe, ’n onbeteuelde bevestiging van lewe. En daarna die omrol, die koestering van arms, ’n skemer troos teen die mergeling. Verbeel hy hom, of raak die plantegroei hierlangs yler? Hy vat ’n sluk warm water. Hopelik het Karen-hulle darem ys. Met Roux se dood het die pyn eers so jou lyf kom sit dat jy nie geweet het of jy jou ooit weer teen dié swaartekrag sal kan verweer nie. En dan, op ’n dag –
sê die tuin ruik na peerbloeisels – wil jy tog weer ’n man wees. Maar ’n muur het gekom om te bly. Selfs ’n terloopse aanraking tussen vel en vel skroei en vlam tot in jou nek; jy moet op jou maag draai om die begeerte in bedwang te kry. Jou lyf se hunkering, dié van jou kop. Die een dryf die ander na waansin totdat jy albei jou hande in die sloop vaswoel om nie om te draai en tussen jou vrou se blaaie in trane uit te bars nie. In jou drome lewe die kind, en is jy weer jy en jou vrou weer vrou. En dan word jy wakker. Uiteindelik sluit jou kop by die lyf se hopeloosheid aan dat dit nie weer sal gebeur nie. Jou ledemate begin die tyd se waarheid glo: Jy is haar nie meer waardig nie, net soos jy jou kinders nie waardig was nie, want jy was nie dáár nie. En jy word al hoe minder. Soos die aftelrympie in Karen se Kleuterverseboek bly daar van jou ’n grasromp in ’n plas donker water oor. Om te dink dat hy, ’n fisikus, sou terugdeins vir enige soort wiskunde. Hel, hier rond lyk die wêreld maar lekker droog. Hy hoop dit is naby die einde van die winter. Is dit sy kleinkind wat eers eendag weer ’n luiperdvel om sy skouers sal sit? Met ’n kind se onvoorwaardelike aanbidding? En kan jy dan vir ’n ou hond nuwe truuks leer? Dit is nie asof Hendrik J. Verhoef in neëntien voertsek gebore is en eerste kon wees met die rosyntjiekoekmodel vir die kern van ’n verdomde atoom nie. Of met sy verpligtinge tuis dié baanbreker was in sy lewenswerk, die metafisika, nie. Sy predikantbroer het altyd gesê jou werk moet voor die Here kan staan, maar dié se ondersoekende brein het bevestiging op elk van jou stellings gesoek: “Het jou dekaan so gesê? “Wat is sy agtergrond? “In watter vaktydskrif het jy die ding gepubliseer?
“Is dit ’n buitelandse een? Duits?” En dan, wie waak oor die wagters? Vra vir Oupa, quis custodiet ipsos custodes. Is daar ’n universele indikator wat kan wys dat jy dit as mens gemaak het? Is dit internasionale erkenning, die briewe ná daardie joernaalartikels? Hy sien vroue en kinders by hulle leë dromme om ’n put wag, en ’n donkie met houers aan sy flanke. Die geduld wat armoede darem van mens kan eis. Hoe seker was hy en sy broers van alles toe hulle nog jonk en sterk was, van hulle paaie vorentoe en vir wie hulle almal ore kon aansit. Ondanks die domastrantheid van ’n ou se mededingers: “Ek stel my broer Boela voor as rugbykaptein ... geluk, ou Boela!” En nou dans jy op jou oudag soos met Disney se Fantasia-besem wat op loop is ná die toorwoord as jy vyf perskes onder ’n laag kerswas in ’n jambottel probeer kry. Toe Karen-hulle by ’n Coca-Cola-bord stilhou, ry hy ’n entjie aan tot by ’n vrou wat tamaties en die een of ander peulgroente verkoop. Die tamatie is lekker, die ding se smaak is nie alles weggeteel nie. “Au revoir,” groet hy die vrou met Souleymane se groet toe Karen-hulle wegtrek uit die tros kinders vir wie hulle ’n paar penne uitgedeel het. Hoe lekker sal dit nie wees nie as hy met nog ’n paar woorde in die mond kan teruggaan, soos destyds voor sy oorsese reise vir die departement opgedroog het.
Hoofstuk 41
Toe sy die Bandiagara-bord sien, weet sy sy het haar nie verbeel nie. Sy het die hele tyd die gevoel gehad die son sit aan die verkeerde kant, asof sy ’n oorstelpte Dias is wat vir Pedro moet oortuig die son het gedraai, die karveel is om die kus. “Oumu, wat gaan aan? Waar is ons?” Die gewaarwording dat daar groot fout is, is klaar ’n beklemming om haar keel. En hier is geen selfoonontvangs nie, sy kan nie eens vir Ben SMS nie. “Dis ’n verrassing. Ben het gesê ek moet vir jou alles wys. Hy sal so bly wees. Nou kan ek vir jou sê, Karen, vir die sout moet jy Timboektoe toe gaan. Mopti is net ’n stippel op die soutkaart. As jy die Toearegs te sien kry, sal jy alles van die myne weet. Dit is nie ’n myn soos Ben se myn nie, hulle sal vir jou vertel, hulle sal jou wys. Dit is ou myne. Die Toearegs sal vir jou vertel hoe die kamele die sout deur die woestyn karwei.” “Maar Oumu, wat van tyd? Sal ons betyds terug wees? Ek het nie genoeg geld vir so ’n ver plek gebring nie. Die petrol in Mali is baie duurder as in SuidAfrika; hierdie viertrek is dors én die petrolprys is op. My geld gaan opraak. Het Ben vir jou geld gegee vir die ‘verrassing’?” “Nee, jy kan vir hom die geld vra. Die myne betaal goed. Mens bly verniet, en die mans wat daar werk, bly gratis in die myn se huise.” Sy skud haar kop moedeloos. “Oumu, waar sal ek kontant kry, selfs al kan ek Ben smeek om vir my geld oor te plaas? Daar is in elk geval nie êrens op hierdie vlaktes ’n bank nie.” “Hier is darem nog die kremetarte waarvan jy so baie hou, Karen, kyk.” Oumu wys na ’n boom in die verte. “Het jy geweet die reuse groei op foutlyne in die aardkors? Bekommer jou nie daaroor nie, jy sal met ’n kredietkaart in Timboektoe by een van die hotelle geld kan kry.” “Hierdie reis was peperduur, Oumu, jou kaartjie, my kaartjie. Dis omtrent hoe
ver Ben se ma se geld gegaan het. Ons eet, ons ry. Jy het al internasionaal gereis, jy weet self hoe duur dit is.” “Ons kon met die ander pad gegaan het, maar die Dogon is ’n kortpad na Timboektoe, jy sal sien, ons sal slaap soos studente, dit sal nie duur wees nie. En dit sal goed wees vir die projek, jy sal sien hoe die mense teen die rotswande gebly het, soos voëls. Jy moet die koringstoorplekke sien, en die boomstompe met hulle sportjies wat die lere is waarmee mense tot op die huise se plat dakke kom. Doer voor is al klaar nog ’n kremetart.” Genade, sy kan doen met ’n SMS van Dominique af, van enigeen. Toe hulle by die buitewyke van die dorp verby is, koop Oumu vir die eerste keer vandat hulle saam begin reis het vir hulle iets: pompelmoesgaskoeldrank, wat heerlik is. Asof sy ook daad by die woord wil voeg oor die goedkoop eet, hou Oumu stil by ’n vrou wat vetkoek in olie braai. “Frou-frou,” sê Oumu. Hulle eet elkeen drie, en dit is lekker. Gelukkig is daar babakos en -melk vir seker nog twee weke. Moet sy dan maar probeer deurdruk na Timboektoe toe? Ter wille van alles wat hierdie projek vir haar geword het? Maar haar geld gaan dan baie knap raak as iets onvoorsiens gebeur. Die oornagplek is darem eweneens nederiger as wat hulle al teëgekom het. Die muskietnet is pers, die mure pienk en die seepbakkie in die stort is die kop van ’n ou gaatjieslepel, waarvan die laaste rooi verf nog weerbarstig aan die aluminium klou. In die laatmiddag gaan stap hulle gou ’n entjie vir ’n bietjie vars lug vir Pikaninie. En haar hart breek oor ’n seuntjie wat halfpad terug van die put af eers ’n bietjie teen sy swaar emmer rus. Dit is bedrywig. “Die dorp is ’n deurgangsroete vir ’n klomp mense van Burkina Faso in die suide, Karen.” Plek-plek loop hulle hul aan die einde van ’n nou straatjie vas in die voorkant van ’n huis en dan moet hulle in hulle spore omdraai. Die mense gaan hulle gang
en lig skaars ’n wenkbrou vir hulle. Twee seuns wat rou grondboontjies loop en smous, vra om eers die baba te sien en vryf oor sy haartjies. Sy en Oumu bars uit van die lag vir die bokke wat die skuinste van ’n uitgespande donkiekar uitklim; die begeerte na ’n hoër punt is so in hulle bokgene dat jy sou sweer dit is ’n trotse rots in die Himalajas. Toe hulle by die hotel terugkom, is die motor se agterdeur nie op knip nie. Ná lekker lag, kom lekker huil, het ’n skooljuffrou van haar altyd gesê. Op die grond lê die stuk draad waarmee die knoppie losgewoel is. Sy het mak geword en die agterruit oorkant die babastoeltjie op ’n skrefie oopgelaat. Hoe is so ’n inbraak moontlik tussen al die mense wat gaan water haal by die put? Sy kyk heel eerste vir die babakos, maar die koelhouer staan onaangeraak. “Nee! Oumu!” Haar rekenaar is weg, haar kamera en haar sak met haar aantekeningboek, met elke liewe sin van haar navorsing tot nou. Oumu probeer haar kalmeer, sy vat tot die baba by haar, maar sy dink sy gaan ’n toeval kry. Die pap wiel tien kilometer buite die dorp was niks. Net toe sy dink haar kind gaan weer in ’n koors uitslaan van die onhoudbare hitte, of sy van ontsteltenis, het ’n blink viertrek met belangrike manne stilgehou en baklei oor die moersleutel en wie die domkrag moet draai. Oumu is ’n mooi vrou. Nou het ’n skare kinders om hulle aangegroei wat grootoog na die kommosie staan en kyk. Tot die hoteleienaar staan en arms swaai. Wanneer laas het sy die werk en foto’s op haar geheuestokkie in die motor se oondjie gestoor? “Niemand in Mali steel nie,” sê Oumu beslis. “’n Ivoorkusser het oor die grens gekom en jou goed gevat, Karen.”
Sy kyk nie eens vir haar nie. Wie dit ook al is, sy is in haar peetjie. Elke stukkie bloedsweet van haar werk is seker weg. “Ek het vir jou ’n boek,” sê Oumu lakoniek. “Ek het vir jou ’n boek waarin jy die laaste deel van Sunjata se storie kan neerskryf. Ek sal dit vanaand vir jou vertel.” Dit is die oorgetrekte A5 uit die babakamer wat sy vir ’n Nuwe Testament en Psalms aangesien het. Oumu staan met Bertha se dagboek in haar twee hande.
Die eerste koning waarheen Sogolon se gesin in ballingskap gestuur is, in Djedeba, was Mansa Konkon, wat kon toor. Nadat Sunjata-hulle al ’n maand by hom aan die hof was, wou hy Sunjata doodmaak omdat die koninginmoeder wat in Niani agtergebly het hom ’n klomp goud belowe het as hy dit sou doen. Die koning het Sunjata uitgedaag vir ’n pot wori, die spel waarin klippies van holte tot holte in ’n stuk hout oorgedra word. Met ’n bose rympie dat hy die uitwisserkoning is, het die monarg sy klippies afgetel, maar Sunjata het met ’n teenrympie die koning uitoorlê en gekeer dat sy kop afgekap word. Daarvandaan is die gesin na die koning van Tabon, maar dié was al oud en nie meer lus vir moeilikheid met Niani nie. Hy het hulle na Wagadou in Ghana gestuur, na Alexander die Grote se nakomelinge toe. En wat het die koning daar in Sunjata raakgesien? Dat groot manne nederigheid nie ken nie en dat hulle taal trots bly. Maar op grond van Sogolon se swak gesondheid is hulle daarvandaan saam met handelsreisigers se karavaan kamele na Mema. Die kinderlose koning daar, Moussa Tounkara, het groot planne vir die opgeskote Sunjata gekoester. Hy het gemeen die seun sou as griffier en vreeslose vegter kon opstaan teen die Soumaoro Kanté, die bose koning van Sosso. Dié wreedaard het groot plesier daaruit geput om waardige oudstes in die openbaar met ’n rottang af te ransel. Ook in Mali het hy verwoesting begin saai. En die koning daar, Sunjata se
korrupte halfbroer, het op die vlug geslaan. Die tyd was ryp en die leiers in Mali het ’n afvaardiging saamgestel om, ná sewe jaar sonder taal of tyding van Sogolon en haar gesin, na Sunjata te gaan soek. Die manne en vroue het op soek na die koningseun van stad tot stad in die buurlande begin trek. Sunjata se suster was die een wat dié mense op die markplein in die stad in Wagadou teëgekom het. Hulle het met kremetartblare, groente uit Mali en speserye soos nafiola en gnougou loop en smous in die hoop dat hulle Sogolon en haar mense só sal opspoor. Die suster het die groente herken, dit na haar oorstelpte, sterwende ma geneem en dié het dadelik die sending na die paleis ontbied. Sunjata moet Mali kom red uit die kloue van die boosaard, was hulle smeekroep. Maar Sunjata moes eers die koning van Mema met oorlog en tarentaalvere dreig omdat dié hom nie dadelik wou toelaat om Sogolon met waardigheid te begrawe nie. Daarna kon Sunjata die swaard teen die vyand opneem. Sy halfbroer en al die volkere wat hy op sy omswerwinge teëgekom het, was aan sy sy. In veldslag op veldslag het Sunjata sy onverskrokkenheid in die jagveld ook op die slagveld gewys. Die oorlogstromme het vreugdestromme geword. Sunjata se griot wat aan Soumaoro Kanté weggegee is, het na Sunjata teruggekeer en al die bose koning se geheime aan hom kom uitgelap. Die bevelhebber het telkens vir sy manskappe ’n groot fees met genoeg slagbeeste gehou sodat hulle versadig en gelukkig kon wees sodra ’n veldslag begin. In twee veldslae het die toorkoning Sunjata ontvlug, en die seun van Sogolon kon nie rus nie. Getalle beteken niks, het hy homself aangevuur ondanks die oorwinnings wat hy reeds behaal het. En toe het sy griot die koning se achilleshiel onthul: en sowaar, die slagoffer se kragte het hom toe ná slegs ’n skrams skoot verlaat.
Sosso is nou ’n plek waar tarentale en jong patryse hulle stofbaddens kom neem. Dit is waar die bourein groei, die bossie wat nie in die kombuis gebruik mag word nie. Sunjata het as veel geroemde oorwinnaar na Mali teruggegaan, en die vroue het hulle maagdedoeke tot sy eer in rye uitgepak. Van nou af sal die Keitas hulle griots uit jou familie kies, het die nuwe heerser vir sy griot gesê. “En ek gee hulle die reg om oor al die stamme in Mali en sy buurlande grappe te maak – maar bowenal oor my mense, die koninklike stam van die Keitas.” Sunjata was die vader van Mali. Handelaars het tydens sy heerskappy vermenigvuldig en Niani het die middelpunt van die aarde geword. Sout, goud en fyn weefstowwe, dit alles kon jy in Niani kry. Die mense van Mali het ná Sunjata se koms vir twee honderd jaar in vrede gewoon.
Hoofstuk 42
Hy betaal deur sy nek vir die bottel Franse wyn in die fênsie hotel, so ’n hanetree van Karen-hulle s’n af, maar hy het dit nou nodig. In daardie hotelletjie kon hy wragtig nie gaan bly nie. Hy sweer hulle sou sommer voor die buitekleinhuisie in mekaar vasgeloop het. Dit het jy nou daarvan. Wat het Karen gedink? Hoekom het hulle net hulle klere na die taverne toe afgedra? Mens sal nooit sê sy het ’n skeut verstand geërf nie, al daardie rapporte ten spyt. Of is dit ’n kunssinnige se verstrooidheid, soos skilders wat glo nie hou van opruim nie en skrywers wat uitblink met glase breek? Pleks hy ook by die voertuig gebly en hulle nie op ’n sluipafstand probeer volg het nie, aan die koes in die bleddie doolhowe. Hy kry haar jammer, en sy kleinseun. Dit het elke stukkie selfbeheersing waaroor hy nog beskik het, geverg om met die pap band verby hulle te ry en die lummel van ’n voertuig ’n kilometer verder agter ’n bossie te probeer versteek. Maar hoe verder hy gery het, hoe plegtiger het hy homself belowe hy sal net ingryp as dit hoegenaamd nie anders kan nie. Moet hy nie maar na haar toe gaan en vra om verder saam met hulle te reis nie? Dan kan hy die ou kleintjie teen sy hart hou soos hy al heelpad begeer. Dan kan hy dié voertuig net hier vir Avis los; hy het hulle daaroor gewaarsku. En dan kan dit dalk weer wees soos desjare se saam roomys eet in die Karoo. Hy kan altyd sê Govender het hom so geïnspireer dat hy die wetenskapmanuskripte in groter besonderhede wou kom bekyk; kyk dan hoe het hy en Karen die keer die Timboektoe-uitstalling in die Kasteel geniet. Dit is dié soort ding wat hy moet probeer as hulle dit maak terug huis toe. Kan hy ’n beter oupa wees as wat hy pa was? ’n Baba kan mos nuwe vreugde
bring; kyk hulle byna bandelose verligting met Karen se geboorte. Hy dag mens moet slimmer word met die loop van jare. Die vorige geslagte, dié het mos al vroeg die tuig neergelê. Sy geslag dra sweetpakke, en die vroue selfs bermudabroeke oor hulle pokkelknieë of stokboudjies. Hulle doen nog nie hul hare op nie en loop nie sommer met kieries nie. Daar was nog altyd die hoop dat mens jou lewe met waardigheid kan afsluit, met trots op jou verlede. Met duldbare tafelmaniere, ’n inskiklike humorsin en ’n noukeurige intellek. Niemand hoef vir Oupa die tandestokkies weg te steek nie. In ’n binnehof wat aan die eetsaal grens, het drie mans met skelpienk maskers op stelte vir die toeriste begin dans. Die tamboeryne kry die ritteltit en basstemme ruis op bo die getjieng van ’n ramkietjie met seker meer as een snaar. Die toeriste word mal; Karen sou dit seker ook graag wou gesien het. Sy gehoorapparaat se batterytjie fluit. Hy haal dit liewer uit. As hy net ’n wag voor sy mond gesit het by haar. Maar dit is juis die ding. Dit is van die peloton voor sy smoel al die jare dat die bekslaner se arm losgeskiet het. Eers was daar die openbare betrekkinge in jou eie huis. Sulke praatjies moet jy jouself wysmaak, of jy is in jou peetjie. “Kyk, Karen, hoe lief is jou boetie vir jou. ’n Ander boetie sou nie so lief vir jou gewees het nie …” Herder! Wat was die alternatief? Om hom na ’n inrigting toe te vat waar hy vrek van die honger of lê in die ellende van ’n traliebed vol van sy eie pis? Die kindjie wat so maklik kon stik in selfs ’n slukkie water. En toe verloor hulle hom tog. Hy vee vinnig oor sy regteroog en kyk of iemand vir hom kyk. En nou, as hy Karen net kan bedag maak op ligloop. Al wat hy nog altyd wou doen, was om sy gesin te beskerm. As hy net daardie pyn kon voorkom het. As hy dit net op ’n manier kon sien kom en almal daarteen kon gepantser het. Moet hy, soos Bertha sou meen, stadiger met die wyn?
Maar wat gebeur het, het gebeur. Moet mens nou soos ’n Adriaan Vlok met sy bleddie weduwee se kruik van ’n emmer water alles probeer skoonspoel? “Moenie sê jy is jammer nie, moet dit net nie weer doen nie!” het hy kleintyd vir Johannes gegil wanneer dié gelag het as hy seergekry het. “Dit was oor jy so kleurryk kon knoop, jou handgebare, die rooi woede wat selfs jou sproete vir ’n oomblik uitgewis het,” het Johannes later jare gesê, toe “vloek” dalk al op sigself vir sy broer ’n vloekwoord geword het. Mens moes die sweer oopgesteek het toe dit op sy grillerigste was. Dat die pit kon uitkom, die ryp geel etter van die negeoog wat jy in die koshuis gekry het van te min vitamiene. Eet jou groente, want dit maak jou wange rooi as jy rooibeet eet. As jy te lank wag, is dit neusie verby. Dan laat verwyte die kors skilfer soos dié van ’n Verneukpan. Een afspraak, en toe die ambulans. Dalk was wat gebeur het ’n blote ongelukkige vergissing. En toe is hy gedoem tot die “klein smart” waarvan Van Wyk Louw praat. Hel, wat weet hy in elk geval, al het hy hom sy lewe lank op die kwantummeganika toegelê – vra vir Heisenberg met sy onsekerheidsbeginsel. Wat jy ook al probeer meet, word bedonner deur die onvermydelike interaksie met die meetinstrument. Wie is reg op hierdie vlak waar die meting net ’n beskrywing van die werklikheid is, en nie die werklikheid self nie? Selfs Einstein het gemeen daar moet ’n ander verklaring wees vir dié omskrywing van moontlikhede waar die fisika so suiwer teorie begin raak. Hy wys vir die kelner hy kan nou vir hom ook maar ’n sosatie bring. Die snaakse ding wat alkohol met mens doen, is dat jy ná twee glase meer wysheid het as wat jy tot nog toe gehad het, maar môre, weet jy, sal elke stuk verworwe insig jou weer ontwyk. Wat so helder was, so opeens, is weg. Jy is terug waar jy was.
Party mense kry sooibrand van rooiwyn, en jig ook as jy te min water suip. Gooi batterysuur op gras, kyk na die brandpad van sonlig deur ’n vergrootglas en weet dan hoe een gedagte in die ingewande van ’n pa vuur kan maak. En die kole onblusbaar rooi hou. Die bure het dan daardie dag Roux se gille gehoor.
Hoofstuk 43
“Oumu, ek verstaan nie mooi hoekom Ben wou gehad het jy moet vir my Sunjata se storie vertel nie.” Sy meet met die oog hoe ver hulle nog moet klim. Voor hulle troon die huise en graanstoorplekke teen die bergwand waarvoor die Dogon wêreldberoemd is. “Miskien het hy dit nie só gesê nie. Hy het gesê stories vat jou vrese weg, en toe vertel ek vir jou die storie.” Karen se oë rek. “Of miskien het ek dit vir myself vertel. Sunjata het vir sy ma opgestaan toe sy dit die nodigste gehad het en sy al begin dink het hy gaan nooit as te nimmer homself ophelp nie. En hy het haar eers met ’n begrafnis gehuldig voor hy verder gegaan het op sy oorwinningspad. Net so sal ek binnekort kos op my ma se graf moet sit. Dis hoe ons die ontslapenes eer, al weet ons eintlik die kos is vir die armes wat begraafplaas toe gaan.” Karen staan eers stil om na die hoekige vorms van die kleihuise te kyk. Reeds op dié afstand kan sy die stoorplekke se gekerfde deurtjies eien waarvan sy die namaaksels by die hotel in Mopti en by gisteraand se hostel gesien het. Dié was, soos Oumu beloof het, selfs meer basies as die plek van die pers muskietnet. Sy moet haar haas om Oumu in te haal. “Maar dink jy ek kan Sunjata se storie vir my projek gebruik? Sy handelaars het ’n groot rol in die soutbedryf gespeel, nè?” “Ek het mos so gesê. En die slawe het net so hard in die soutmyne gewerk. Ek is seker jou vriend Dominique sal jou nog breedvoerig inlig oor die miljoene slawe wat Afrika self ook aangehou het lank nadat die wegvoer van mense na Amerika gestaak is. Miljarde kauri’s is nog uit die see gevis as betaling vir hoeveel miljoene mense later.” “Oumu!”
Dié lag net oor haar verontwaardiging. “As jy Toearegs sien, vra vir hulle van die slawe. En spits net jou ore, die gids gaan netnou vertel hoekom die Dogon soos dassies op die kranse gewoon het, en hoekom hulle te bang was om onder op die grond te woon en ’n doodsvrees vir die klank van kettings gehad het.” “Sal die Toearegs kwaad word as ek hulle oor slawerny uitvra? Hulle sal my lewendig afslag, Oumu, jy terg my!” Die gids draai om om te kyk waarom Oumu so lekker lag. Gelukkig het hy vriende gemaak met Pikaninie en abba hy hom. “Toearegs is altyd kwaad, Karen.” “Maar hoekom?” “Hulle sê die regering ontsê hulle hul regte en wil nie skole bou vir hulle kinders nie. Maar hulle kinders gaan Moslem-skool toe.” Albei van hulle is nou ’n bietjie kortasem van die steilte die bergpaadjie uit. Bo gekom, draai hulle al drie eers weer om. Onder hulle lê ’n stuk aarde so wyd en so kaal soos die Knersvlakte. Die paar kremetarte en die dorpie waar hulle begin stap het, het al baie klein gekrimp. Die gids begin breedvoerig verduidelik hoe die kerfwerk op die deure van vroue en mans se graanstoorplekke verskil. Sy is dankbaar toe Oumu hom kortknip “omdat sy reeds die geskiedenis vir die baba se ma” vertel het. Maar dan lyk hy so afgehaal dat sy amper vir hom wil sê hy moet hom nie aan Oumu steur nie, maar sy bedink haar en staan liewer nader om Pikaninie se hoed verder oor sy nek terug te trek. Sy is byna te moeg vir aandag gee soos sy moet, want soveel goed het die laaste paar dae gebeur. “Jou ma het die boek in die buiteasblik gegooi, maar ek het gesien daar is nog baie leë bladsye in,” was Oumu se verduideliking oor die dagboek. “Nee, sy wil dit nie hê nie,” het sy vir Oumu beduie, en eerder ’n skoolskrif met lyntjies as troosgeskenk van die hoteleienaar aanvaar. Nou wei die gids uit oor ’n mitiese slang of ’n bose gees en wys die reptiel in die
klei teen ’n lae muur, sy lyf vol gaatjies om kolle voor te stel. “Daar gaan nie in jou hotel nog plek vir ’n slang ook wees nie, Karen,” jaag Oumu hulle aan toe sy nog ’n vraag of twee wil vra. Na die bobbejaantoue waarmee die mense vanmelewe op die hoë rotse gekom het, kan sy nie ophou kyk nie, al wieg Oumu al van een been na die ander. Hulle moes banger vir die slawevangers as vir die duiwel self gewees het om sulke doodsveragtende hoogtes op dié manier te moes uit. “Ek het Sunjata se storie vir jou vertel sodat ons dit nie vergeet nie,” sê Oumu toe hulle ondertoe begin stap. “Die griots sê ons moet die stories van helde bly oorvertel, want anders vergeet mens dit.” “Maar die griots wil dan nie eens die hele storie vertel nie, Oumu.” “Ja, die griots sê ook party goed moet liewer nie onder woorde kom nie. My ma het dit nogal partykeer agter hulle aan gesê. Sy het byvoorbeeld geweier om ooit die woord ‘slaaf’ op haar lippe te neem.” “Dink jy sy het nooit haar oupa vergewe nie, Oumu?” Oumu wys ondertoe, na die moddermoskee, met sy houtstokke wat wegstaan uit die mure ’n kleiner weergawe van die meneer in Djenné. Sy wou by dié dorp aanry, en toe Oumu niks wou weet nie, gevra oor die kans op die terugtog. Haar reisgenoot het net iets gemompel van een vleuel wat ingesak het, “dit sal nie nou indrukwekkend wees nie”. “Karen, om vergiffenis te kry, moet jy erken jy het iets verkeerd gedoen, belowe om dit nie weer te doen nie en om vergiffenis smeek. As mens ’n ander te na gekom het, moet jy doen wat jy ook al kan om dit ongedaan te maak, en daardie mens om verskoning vra. Maar my ma het nooit haar oupa geken nie.” Oumu lig haar skouers asof sy nie antwoorde het nie. “Tog het sy haar nie laat bind deur daardie verlede nie. My ma het ook altyd gesê of mens nou van die Toearegs hou of nie, jy kan maar so te sê ’n term uit hulle woordeskat vat en dit vir jou toemaak in ’n kalbas – die Temasjek-woord vir bravade en vryheid is dieselfde. My ma was ’n dapper vrou, en ek dink nogal haar dapperheid het uitgekom in die trots waarmee sy haar kinders bemagtig het. Ek hoop net ek kan dit binnekort vir haar bewys ook.”
Oumu sal seker kan. Dalk kan hulle selfs vinnig by haar ma inloer in Timboektoe, maar hulle sal seker moet wikkel om betyds terug te wees in Bamako vir haar en Pikaninie se vlug. Toe hulle onder kom, smous ’n meisie kremetartpeule waarop patrone uitgekerf is, en digby die moskee hang die mooiste modderdoeke en maskers. Hoe lekker aspris sal dit nie wees om vir Dominque ’n masker uit die Dogon saam te neem nie, maar sy is te benoud oor haar geld. “Ek wil gou ’n draai gaan loop, Karen,” sê Oumu. “My vet baba het seker al jou rug moeg,” maak sy verskoning by die gids, maar hy lag net skaam en lig die kind tot op sy skouers. “Julle moet bly wees dit is hierlangs ’n kortpad na Timboektoe, anders het julle seker nie so baie besoekers en fooitjies gekry nie?” “’n Kortpad?” lag hy. “As jy haastig is om in Timboektoe te kom, is dit heeltemal te ver om hierlangs te kom. En die pad is so sleg. Mens ry sommer ’n ekstra dag hierlangs. Julle het seker gisteraand saam met die rugsakreisigers op die dakke hier onder geslaap?” Sy knik. En haar oë peul uit. Wat voer Oumu in die mou? Toe sy opkyk in die rigting waarin dié verdwyn het, is die opportunis terug, saam met ’n man met seker ’n week se bagasie. “My neef wil ook saamgaan na Timboektoe, soos jy, Karen. Hy wil graag by môre se hadj uitkom. En hy wil ook baie graag my ma sien; ons sal haar in ons gebede dra terwyl ons al om die moskee stap.” Toe weet sy, die uitgeslape Oumu het dié saamrygeleentheid en verdere reis tot op die rand van die woestyn al wie weet wanneer beplan. En haar strik staan seker die parmantigste tot nog toe as sy haar kop so skuins draai. Sy wil kwaad word, maar sy voel ’n gelatenheid oor haar kom, haar kinderjare se magteloosheid dat sy in elk geval niks aan die situasie kan doen nie. “Oumu, jy het gejok. Jy jok nog die hele tyd.”
“Sou jy nie ’n laaste keer in eerbied by jou ma se bed wou kniel nie, Karen?” Wat kan enigeen daarop sê? Sy draai om, vat haar kind by die gids en begin hom in sy stoeltjie op die agtersitplek van die voertuig vasmaak. “Ons waag dit op hierdie paaie met tyd wat ek nie het nie en my geld is amper op. Soos wat jy aangaan, sal dit my nie verbaas as daar nie ’n enkele Toeareg in die hele Timboektoe is nie.” Maar Oumu het haar net teruggetrek in haar Johannesburgse waardigheid. Sy wink haar neef nader, maak die kattebak oop en begin plek maak vir sy bagasie. “Jy sal die manuskripte sien, Karen. Dit is baie mooi. En langs die pad leer jy baie, soos Sunjata. Ek het vir jou gesê, dit het lank gevat voor hy kon opstaan en loop.” Sy sluk ’n antwoord sodat sy Oumu liewer nie moet invlieg nie. Wat by haar opkom, is die aanhaling uit ’n boek met Maori-sêgoed wat Heleen uit Nieu-Seeland aangestuur het: White people can never understand the beauty, the closeness of being black – when you are black, you are never alone. En hier staan sy soos haar vinger in die middel van nêrens.
Hoofstuk 44
Die oomblik wat haar selfoon ’n strepie ontvangs toon, laat sy vir Oumu stilhou. Maar die sprankie hoop is soos dié wêreld se dou, net ’n gedagte. Sy kry nie gebel nie. Toe hulle eindelik by Douentza kom, is daar ontvangs, maar Ben se foon is op boodskapmodus. Is hy op terrein of braai hulle by die swemgat waar daar nie selfoonontvangs is nie? Sy gryp die foon toe ’n SMS deurkom, maar dit is van Dominique. Uiteindelik iets van my kant vir jou! Sal jy my vennoot wees om ministerskaia in Brynterion mooi te kry, vanaf 15 Junie? Ystervarkpenne, hier kom ons! Die liewe ding. Pleks sy maar oë toegeknyp en daai masker gekoop het. Hulle ry omtrent die hele tyd in ’n stofwolk. “Ek het dié pad nog nooit so besig gesien nie, Karen,” vra Oumu om verskoning. Toe hulle, al gaar gery, laatmiddag op die pont is om die Niger na Timboektoe oor te steek, bel Ben eers terug. Gelukkig raas die diesel nie te erg nie en is dit asof die branders ’n rustigheid oor ook die groot klomp reisigers sonder motors bring. “Wat is fout?” hap hy van senuwees. “Niks is fout nie, Ben. Ja, miskien is alles fout. Oumu lieg nog heelpad soos ’n tandetrekker. Ons is op pad na Timboektoe omdat jy glo gesê het ek moet gaan ...” “Waar kom sy daaraan? Is sy mal? Ek dag julle draai by Mopti om. Daar is ’n reisigerswaarskuwing oor Timboektoe by die myn. Hemel, Karen, moet net nie vir my sê julle is so ver oos nie. Daar is in November ’n Fransman ontvoer en vroeër vandeesmaand is ’n groep toeriste op die grens tussen Mali en Nigerië gegryp. Jy onthou van die Dakar. En die Toearegs verloor dit heeltemal so in die
aanloop tot ’n geestelike fees omdat hulle nog die bliksem in is oor hulle glo die swartes probeer hulle oor slawerny terugkry. Dis môre die Mouloud-fees, Mohammed se verjaardag, wanneer al die Moslems om elke moskee storm asof dit Mekka is.” “Maar wat moet ek doen, Ben? Ek het net meer as twee dae om terug te kom in Bamako en my geld raak min. Sy het ons ’n reusedraai deur die Dogon laat ry om ’n neef op te laai en my laat verstaan dis ’n kortpad. En sy praat iets van kontant by die internasionale hotels in Timboektoe kry, asof geld aan akasias groei.” “Wat? Waar trek julle? Sê vir haar ek draai haar dun nek om as ek haar ooit weer sien! Is klein Jakob oukei?” Iets piep op die lyn. “Hy gedra hom soos ’n engel, maar ons is al op die pont. Ons is glo netnou in Timboektoe. Jy moet die sonsondergang oor die rivier sien, die voëls wat huis toe vlieg en die vissermanne en hulle pirots swart geëts teen die bloedrooi son.” “Karen, dis tipies jy om liries te raak terwyl Rome brand.” “Ben …” Sy weet nie of sy moet lag of huil nie. “Karen, bly net by Oumu, al gebeur wat, bly in die hotel, mens weet nooit wanneer een fanatikus …” Haar foon vrek soos ’n sleg trekdier. Met die deurmekaarspul in Bandiagara het sy dit nooit gelaai nie en die vorige aand was daar nie toegang tot krag nie. Wat wou Ben nog gesê het? Miskien is dit ’n geluk dat Oumu se neef tog nou by is. Dalk kan hy sommer vanaand in die viertrek slaap.
Hendrik weet hy is in helse moeilikheid. Karen-hulle is op die laaste pont van die dag oor die rivier en hy kon dit wragtig nie waag om so na aan hulle te kom nie, nie met dié dat daar so min voertuie met een pontvaart kan oorgaan nie. En dit lyk asof elke mens en bok in Mali op die pont wil kom. Waar is daardie tulband nou? Hel, juis noudat die bleddie barbare in die woestyn so naby is, is hy
van Karen geskei. Sal sy en die baba reg wees? Is sy dalk bang? Gelukkig is daar darem nou ’n man by hulle as iets moet gebeur. ’n Groep jong Nederlanders wat net ná hom by die pont aangekom het en die Frans gooi, is al ’n paar biere sterk. Hulle herhaal die pontmeester se waarskuwing vir hom: “Dit lyk asof ons in die tou moet slaap, Oupa. Môre sal almal by die moskee wil uitkom en die ry gaan al baie vroeg baie lank wees.” Maar die eintlike geblaas in sy nek is Bertha se boodskap op sy selfoon. Wat gaan hy maak? Hy was tot die dood toe bekommerd, sal hy pleit. Maar sal dit help? Hier staan hy, uitgevang, en weer skuldiger as sy kind. “Pa, ek wonder oor jou planne, want ek kan huis toe gaan wanneer jy terug is. Is jy al op pad? Wanneer sal jy my by die lughawe kan kom haal? Dominique sê hy sal met liefde na Karen se huis en die hond omsien, want Deluvia en Dawie het sowaar aangebied Johannes en Rachel moet by hulle op die plaas kom bly noudat Rachel ontslaan word. Daar is glo nou ’n arbeidsterapeut op hulle dorp, en een maal in twee weke ’n besoekende spraakterapeut. Bel my as jy die boodskap kry.” Vanaand is die aand dat hy die Hugenote-tak van sy stamboom soos ’n Petrus verloën en “Piet Hein” sing tot hy blou word om ’n Heineken of twee uit die Kase te kry. So haal jou sondes jou in. As Wes-Afrika se muskiete hom nie vannag wegdra nie, gaan sy vrou hom in elk geval los wanneer hy haar bel.
Hoofstuk 45
Of dit die stilte voor die storm is, weet sy nie, maar op die dak van die goedkoop hotel wat Oumu op die rand van die dorp vir hulle opgespoor het, het ’n boaardse vrede in haar kom posvat. En daarmee saam ’n soort opwinding, ’n afwagting dat sy op die punt staan om tegelykertyd die asemrowende en weerloosheid van ’n woestynblom tussen haar hande te hou. Oumu is met haar selfoon na die hoteleienaar om by dié ’n kragpunt af te bedel, en ’n emmer warm water vir die baba se bad. Die geriewe gee ’n nuwe definisie aan “beskeie”. Of moet sy bang wees? Draai daar onder ’n duiwel rond soos Ben waarsku? Maar tog, Timboektoe, kan jy glo, al weet sy nog nie alles van die soutroete nie. Môre. Sy soen Pikaninie op sy kop. Nadat hy die hele middag sy agterent lê en afslaap het, is hy die ene kuiltjies en liefde. Foei tog, sy magie is sommer hard van al die ry. Hy het Ben se oë en mond, en sy trek die kontoere met haar vinger na. Poef! sê sy vir sy nekkie, jy kan die muskietgoed op ’n mylafstand ruik, en hy kraai dit uit. Die liewe, liewe asempie hier teen haar lyf. Wat ’n land is dit nie. Onder hulle speel kinders sokker in die allerlaaste daglig. Die klank trek ver in die koeler lug; hulle skree en lag, lag, lag. En vanmiddag, in Douentza, toe sy op haar moedeloosste was, het ’n meisietjie na haar toe gekom en ’n koekie in die wit palm van haar hand uitgehou. “Merci!” het sy geroep en gewys sy sal dit vir haar baba gee. Maar nee, nee, het die kind haar kop geskud en gewys, nee, dit is joune. En gelag met perfekte tande. ’n Klein patroon wat jy kan weet nooit in haar lewe ’n
oordaad van lekkernye sal sien nie. Dié polfyntjie, dié kleinood is wat sy sal koester om haar aan Mali te herinner. Daar was die man in die Dogon wie se bokke Bybels agter hom aangeloop het en die kleinboere wat op die oog af sonder verposing hulle uielandjies langs die meer natgooi, kalbas vir kalbas. In hierdie land is dit die vroue en die donkies wat hard werk, het Oumu gesê, en hulle het weer gelag. Die kremetarte se mikke is al wat hoog genoeg is om die hooi van die bokke af weg te hou, en hier en daar staan ’n stam met jare se oesmerke op die bas hom geduldig en vernuwe. Is Mali die aardse prag van sy modderdoek? Is hy die verwikkeldheid van sy boukuns en sy wêrelderfenismoskees? Is hy die arbeidsaamheid van die vroue wat mannakoring stamp en die vissers wie se liggies donkernag nog op die Niger flits? Is hy die koraklanke en rinkelende kalbastamboeryne wat Oumu se neef op ’n CD het of die intellektuele tradisie van die horingoue manuskripte met die goudkalligrafie wat sy nog saam met haar pa op die uitstalling in die Kasteel in Kaapstad gesien het? En dalk môre hier in hulle tuiste weer kan bekyk as daar tyd is? Is dit die fakohoye en atieké wat hulle met die hand geëet het? Is dit die dans op die Dogon se wankelrige stelte ter ere van die dooies wat Oumu laataand in Bandiagara vir haar buite die buurhotel gewys het toe hulle gou weer gaan kyk het of die motor reg is, die stelte tekenend van die tyd toe die mense nog nader aan die water en die waadvoëls gewoon het? Die blou tulband van die Toeareg op die pont, sy oë klein en onverwags lig teen die dadelkleur van sy vel, en die sakkie uit kameelleer met die klein silwer kruise en amberring uit die lapvoue om sy bors? Hy het gesê hy verstaan haar, maar net sy kop geskud dat hy nie begryp nie toe sy vra of iemand wat hy ken môre vir haar ’n soutmyn kan gaan wys. Is hierdie land die gerygde krale wat die Fulani-vroue in die ry pont toe na hulle uitgehou het, die blou en groenwit klippe glad geskuur soos glas tussen die silwer, of die wit groefpaadjies dwarsoor die swart klippe, klein en rond en uit die rivier? Die plaatgoud van hulle groot oorbelle, veerlig aan die swaai in die waai van hulle nekke? Die kleiwerk, elke soort tekstiel? Is dit selfs die Frans op al die tonge en die baguettes, die ironie dat dit die verleidelike geur van die koloniste se brood is wat oor soveel oonde in die land bly hang? As sy na die verste horison kyk, is purper hierdie land se kleur? Of die ligtheid van sand of bruin of sonoranje?
Teen dié tyd, sweer sy, brand elke ster wat ooit gebore is bokant hulle in die hemelruim. Haar pa sal nie verstaan hoekom sy moes kom nie, dink sy toe sy sowaar ’n ster sien val. Hy wat in die Karoo ook dié boek vir haar probeer oopsluit het. Al gebeur wat, sy is bly sy het gekom na ’n land waar vreugde ondanks die swaarkry seëvier. Sy weet nou mooimaak is nooit verniet nie, en hoe skraler die omgewing, hoe ryker die vervulling. Miskien is dit juis haar pa en ma wat onwetend vir haar ook van skoonheid se troos geleer het. Kyk daardie pakkie kryte onder haar kussing, weer en weer, ook selfs nadat Rouxtjie weg is. Sy staan swaar op, maar haar kind moet gebad en onder die muskietnet kom. Toe sy die kamerdeur oopstoot, skrik sy haar nugter. Die skok trek eerste deur haar bene sodat sy moet gaan sit. Oumu is weg. Die babagoed staan in ’n netjiese hopie langs die bed soos wat sy belowe het sy dit sal afdra. Maar Oumu se grys tjalie wat netnou nog op die tweede bed gesmyt gelê het, haar drasak en die pakkaas wat sy uit Suid-Afrika vir haar mense saamgebring het en opsluit heeltyd by haar wou hou, is alles skoonveld. Op die bed langs die stomende skottel water lê die motorsleutels, twee geldnote, haar ma se dagboek en ’n vel papier met ’n nota: Karen, ek moes gaan. Jy sal reis na Taoudenni se soutmyn; die Toearegs sal jou daarheen neem. Dit is twintig dae oor die woestyn se duine na die myne en twintig dae terug. Jy sal die sand teen jou vel voel, jy sal aan die reuk van die kameel gewoond raak, en aan die geskommel in sy saal, en jy sal bedags in bokveltente slaap. Die sterre sal die wegwysers wees en die Toearegs sal vir jou hulle stories vertel. Jy sal hulle soet tee drink en hulle uitvra oor die slawe.
Sy wou nie haar ma se dagboek oopmaak nie. Dit was al later as twaalf toe Pikaninie hom wakker gehuil het oor ’n doek der
doeke ná die setpil wat sy hom vroegaand gegee het. Sy was later lus om saam met hom te huil, maar ’n halwe bottel melk het hom darem aan die slaap gesus. Hoe gaan sy al hierdie goed alleen langs die pad gedoen kry as sy moet bestuur? Eers was daar die spanning oor haar selfoon, al verbinding hoegenaamd met Ben en die buitewêreld. Wat as sy haar vlug uit Bamako na Suid-Afrika moet uitstel, en waar sal sy in elk geval die geld kry om dit te doen as dit baie kos? Het Ben dalk al ’n vooruitbetaling uit Anglo afgebid gekry? Gelukkig is die huis en die elektrisiteit vir die maand betaal voor sy uit Johannesburg weg is. Die skoonmaker wat sy op die dubbelverdieping se grondverdieping raakgeloop het, het net haar skouers gelig oor die hoteleienaar en waar haar foon kon wees. Hy is na ’n familiefees toe. En die vrou het haar aangekyk asof sy onnosel is dat sy nie weet met die Profeet se verjaardag is elke pelgrim wat maar kan in die eeue oue dorp nie. Toe is daar tog om elf ’n klop aan haar deur. Die skoonmaker, met die einste foon. Sy het drie oproepe van Ben misgeloop, en een van haar pa. Ben het gelukkig ge-SMS ook: Wag vir huurvlug na Doebai. Jou ma wil jou pa vermoor. Moenie skrik, hy byna in Timb. Wou manuskripte kom bekyk, naby jou wees, en het dit net goed bedoel. Kan dit waar wees? Haar pa? Yl Ben? Kuier hy dalk saam met die manne? Of is dit die ou wantroue? Sy wens haar man was hier. Dalk was die hele reis alles pure wind. Dit het sy nou daarvan, van die vlug van Michael en van haar beheptheid met die projek. Haar oë was naderhand twee kole vuur van – ondanks die grondpad se slote en sinkgate op pad na Timboektoe – aantekeninge maak oor alles wat sy in Mali gesien en beleef het, en oor waar dit op die projek van toeing kan wees. En Oumu? Waar gaan sy haar opspoor? Mens los mos nie iemand net so as jy belowe het om by hom te bly nie? Sy wou nie haar ma se dagboek oopmaak nie. Wat as elke inskrywing een lang verwyt is? Miskien moet sy dan uiteindelik die karwats oor haar kaal blaaie kry, stukkies yster saam met die dun, snydende rieme van beleë woorde.
Net een bladsy, belowe sy haarself. As mens skryf, wil jy tog seker gelees word? Net een bladsy, na willekeur oopgemaak, en dan sal sy vir goed die boek weggooi, hier op die rand van die woestyn. Hier kan stof en vog en insekte dit help verweer soos soveel van die meer uitgelewerde manuskripte, as haar ma dan nou wou hê haar herinneringe moet vernietig word. Sy knyp haar oë toe, voel oor die bladsye, vou die boek oop en vryf stadig oor die mik voor sy haar oë op skrefies oopmaak. Daar is nie datums op die bladsy nie, maar haar ma se lopende skrif is onmiskenbaar in die sagte lig van die gaslamp: Hoe maklik was dit met ’n ou dogtertjie. ’n Meisietjie vee agtertoe, liefie. Saggies. Sy klap die boek toe en druk haar gesig in die kussing, die boek teen haar bors. Toe sy haar kom kry, is daar ’n nael in haar mond, en haar tande aan die brei aan die bopunt van haar voorvinger. Vannag, weet sy, sal sy nie ’n oog toemaak nie. Soos vir die straatlamp voor haar baba se geboorte sal sy vir die lewelose dakwaaier lê en kyk. Sy sal dit dophou totdat die maanlig op sy lemme deur die bovenster verdwyn wanneer die môre uiteindelik kom.
Hoofstuk 46
Dit is die atmosfeer van ’n volksfees dié; waarvoor was sy so bang? Om haar is ’n gedrang, maar Pikaninie moet ’n regte Afrikaan wees, want hy slaap soos ’n klip hoog op haar rug waar sy hom met ’n kikoi vasgemaak het. Hy het ’n gewiggie geword, en hoe lank sal sy hier moet rondstaan in die hoop om Oumu te kry? Vir die drasak oor haar skouers het sy nie vir langer as ’n uur kans gesien nie. Oumu moet saam met haar na Bamako teruggaan. Dit was die ooreenkoms. Sy verkyk haar aan die skare mense op pad na die Djinguereber-moskee. Manne met tulbande dra sonbrille en vroue so mooi soos Oumu loop en smous met borde vol pynappelstukke of menterige blare op hulle koppe. Daar is mans met lang, kleurryke hemde, kinders met hulle hare in voortjies gevleg en blink juwele wat klingel om nekke, om arms en aan ore. Op die rokke is borduursels, die some kartel en aan die ritssluiterpunte op die rûe voor haar hang ’n tennisraket en ’n aluminiumblom. Timboektoe is aangetrek. Haar oë fynkam die massa vir ’n teken van Oumu, maar oral punt strikke, elke vrou het ’n maer nek en die meeste het haar gemaklike, fier houding. Hoe nader sy aan die moddermoskee kom, hoe dringender raak die gees. Hier tussen hulle kan sy die gewigtigheid aanvoel, kan sy Oumu glo dat gelowiges al sowaar sedert die veertiende eeu op dié dag al om die struktuur met sy drie suile en wegstaanhoute loop. Sy probeer Oumu se rokke onthou, maar die reënboog om haar verwar haar, die patrone en die knoopdoopkleursel se stroke oor nog ’n kleur en nog een en nog een. ’n Wonderwerk, dit is waarop sy moet hoop.
Waar is haar pa? Is hy regtig in Timboektoe? Dié moontlikheid voel soos ’n versinsel uit iewers tussen wakker en slaap in die nanag. Die plein voor die moskee is nie baie groot nie, nie met dié see van mense nie, en sy wurm haar met kind en al in ’n staanplek so na as moontlik aan die kant in. Oor die luidsprekers trek die plat, uitgerekte vokale van die gebedsroeper steeds sonder verposing, maar nou oorverdowend hard. Pikaninie is wakker, en hy drink gulsig. Dit is ’n wonder die los stof onder soveel sole brand nog nie sy oë nie. Op die buitenste rand van die plein staan ’n toeris se wit vel hier en daar uit; ’n paar het ook kameralense langer as ’n voorarm. So onveilig kan dit dan seker nie wees nie? En al weer die kaal skouers. Pelgrims is meedoënloos besig met hulle sirkelgang. Hulle gesigte en skouers wat vorentoe beur, teken hulle erns met die tog. Hulle loop met die oorgawe van langafstandstappers; hulle arms swaai met dieselfde dringende ritme as hulle bene se vasbeslotenheid. Oumu sê as jou water val, of as jy oud is en jou kierie gly uit jou palm, los jy dit net daar. As ’n plakkie van jou linkervoet afglip, hink jy kaalvoet verder. Die massa sal jou tot stof trap as jy buk. As jy eers aan die loop is, lóóp jy. Dit lyk asof hier ook bouwerk is. Het Oumu die herstelwerk in Djenné met dié restourasie verwar? Om die voorkant van die moskee swenk die halfmaan mense wyd oor die plein uit, maar dit lyk asof hulle aan die kante nouer in- en uittregter. Sy voel-voel na haar baba. Die stappers is soos ’n organiese golf wat heen en terug dein, en dit begin hoogwater raak. Moet sy liewer elders probeer wag, na die mark se kant toe? Tog, Oumu moet hier verbykom, dit weet sy. Sy moet net mooi bly kyk. Maar sy begin benoud raak. Die mense raak al hoe meer, en dit raak al hoe warmer. Moet sy liewer die hasepad kies? Die sagte murmurering uit die skare sê iets lol in die wig hier by haar. Het iemand gebuk? ’n Gil klink op, en nog een, en toe is daar pandemonium. Paniek spoel deur die massa. Sy moet wegkom, maar sy staan versteen. Wat as hulle vasgepen word, hulle rûe so naby die geboumure om die plein?
Voor haar oë peul mense uiteen soos termiete uit ’n gat. Maar waarheen? Dit lyk asof hulle stilstaan. Soos ’n foto met die blitsvinnige sluiterspoed van ’n vallende druppel in ’n waterbak kring hulle in, en rimpel tegelykertyd uit. Dit begin en wel op, die dwingender voetval van ’n stormloop onder in die vernouing. Is dit waarteen Ben gewaarsku het? Hoe gaan sy vlug? Toe sien sy dit, net links van haar, ’n Franse gesin skarrel saam met nog toeskouers tot op ’n voorhof se muur. Die pa vang haar oog en hou sy arms vir haar baba uit. Soos wat sy hom na veiligheid aangee, voel sy die verligting oor haar spoel. Nou moet sy net self wegkom. Wat haar dwars laat kyk, weet sy nie. Sy kyk vas in die vreemde blou oë van ’n jong seun seker drie meter voor haar. Die res van die skare verdwyn. Sy sien net sy paniek, sy doodsangs, en die volgende oomblik sak sy gesig weg tussen die skouers om hom. Hy struikel! Sy dink nie. Sy storm vorentoe. En die swart see om haar maak oop voor haar voortvarendheid, vir die gestoei van haar naelloperelmboë. Sy gryp die kind aan sy jurk se voue en bid vir jong krag. Met alles in haar pluk sy hom op, ruk sy hom tot op sy bene en saam met haar, kant toe. Die mense wat nog om hulle was, word die volgende oomblik meegesleur, maar nuwe arms dra haar en die seun kant toe, die voorhof binne. ’n Deur vlieg oop, iemand skree in Frans en gryp haar aan die kikoi na binne. “Waar is die seun? Wat het met die seun gebeur?” gil sy. “Jy het hom gered,” sê ’n Franse aksent agter haar. “Red nou jou baba – en jouself. Kom diékant toe.”
Aan die manier waarop haar pa by die geel viertrek wag, weet sy hy was op die plein, weet sy hy het die stormloop gesien, vir haar en haar baba. Toe het hy tog gekom. Is dit vertedering op sy gesig, verligting, of net ’n ontredderde weerloosheid? Sy hou haar kind vir hom uit voor hy iets kan sê. “Pa.” Hy vat die baba en iets roer saam met die spiertjie in sy wang deur sy lyf. “Karen,” sê hy skor. Sy byt haar lip en knyp haar naels in haar palms. Hy sit sy arm om haar skouers, maar sy oë bly vasgenael op die baba, wat op sy beurt die vrede nie baie vertrou nie. “Pappa se hemp is onderstebo,” sê sy toe sy uiteindelik terugstaan. Hy lyk so beteuterd in die blokkieshemp bo-oor ’n kaalnekfrok dat haar neus kreukel. “Is julle dors? Het julle iets geëet?” vra hy asof sy en Ben pas op Stellenbosch onder die prieel voor die motorhuis stilgehou het. Op die viertrek se kap staan ’n pakkie frou-frou en ’n bottel gekoopte water. “’n Fransman het vir ons seuntjie ’n sappie in sy bottel gegooi.” Hulle kyk onseker vir mekaar. “Wat het geword van jou reisgenoot, Karen?” Sy kyk af. “Dink Pa … Kan ek by Pa die geld leen vir ’n vlug na Bamako? Maar nie soos oom Dawie se lenings nie. Oumu het gedros na haar siek ma toe.” Hy lyk verleë. “Dis daai Deluvia, my kind. Familie moet vir mekaar daar wees. Sal dit reg wees as ek vir Ma by julle in Johannesburg kom kry voor ons teruggaan Kaap toe?”
Hoofstuk 47
Met die geskommel en lugleegtes tussen Timboektoe en die hoofstad en die oorverdowende geraas van die vliegtuigie se motore het sy haar hande vol gehad om Pikaninie tevrede te hou. Maar noudat die Boeing se sagte gesuis hom aan die slaap gesus het, skakel sy die dakliggie aan. Oor ’n uur klim hulle op Nairobi oor vir die vlug na Suid-Afrika, het die Air Kenia-vlieënier netnou gesê. Die lyntjiesboek wat sy as geskenk gekry het, het sy vol geskryf, wou sy haarself wysmaak, maar sy hoef nie langer vir haarself oor ekstra papier te lieg nie. Sy het haar ma se dagboek saamgebring omdat sy die laaste inskrywing wil lees. En dan sal sy die moed moet hê om vir haar te sê sy het dit gelees: Is dit, soos Hendrik meen, my stilte wat sogenaamde verwyt sou weggee? Moes ek dan gepraat het oor gemeenplasies of politiek? Dan sal ek hierdie boek nou maar wegmaak. Maar verwyt het tog geluide wat met hom saamloop, soos ’n sug, die geskuur van broekspype wat vinnig wegloop, en die toedruk van ’n kasdeur. Stilte is ’n skuiling, nie ’n aanklag nie. Jy moet geluidloos treur. Rou seer het nie woorde nie, of dit word ’n melodrama in die mond. Jy seël dit in, want jy dink desperaat dit sal die omvang begrens. So spaar jy ander die vertrekte gesig – ook jou man en jou dogter. Plig en peuselwerk, dit word jou daaglikse behoud. Die lieklak van die wasmasjien. Beuselagtig, het my suster dit genoem, maar teen skil en skrop durf niemand stry nie. Jou skure word vol; sindelikheid raak die grens teen verval. ’n Lamp wat heelnag brand. Stilte kom vanself. Dit is ’n pantser teen die weldenkende bemoeienis wat die versterking in ’n gees, hoe weifelend ook al, weer kan lostorring. Stil smart pas in die hart soos ’n gladgewaste stuk seep in ’n reisbakkie. Dit is tog snaaks hoe mens se swye uit onmag deur ’n soort osmose in almal om
jou posvat. Hulle val daarby in. Dit is heilige grond, moenie daarop trap nie, nie eens gemeensaam en ligvoets nie. Jy rou nie oor wat jy gehad het nie. Dit is die ergste. Jy rou oor alles wat moes wees en nie kon nie. Jy bly gedompel in rou omdat jy hom gefaal het. Die troos wat ander aan jou voorhou, is satyn se wederstrewigheid op ’n wintervel. Hy wat dan nie eens in die baarmoeder veilig was nie, en later amper nie ’n kans gehad het nie. Altyd jou bloed, en toe daardie brood. Hoe besig my Spreuke-hande ook al met die weefgetou gebly het, dié ouertoets kon ek nie slaag nie: om my kind te beskerm. Nie teen die wêreld nie, en nie teen homself nie. Eers het die dae verby gestreep; daar was mense wat kos ingedra en weer bakke kom haal het. Wie? Hulle gesigte is ’n smeersel, soos in ’n koorsdroom, selfs vir my wat al die jare nougeset boekgehou het van elke sagte genade vir ons gesin. En later, later het ek gesien die seisoen wissel en my hande het gereik na die droë gras om die somerstruike mee toe te maak, na die reddende roetine van doen sonder dink. Is dit God se straf vir my spaarsame sinne dat Hendrik my soos ’n hakkelende Moses na Karen wou stuur ná sy ondeurdagte agternasit van ons kind na die seehuis? Praat, sê Hendrik. Dit was vir praat dat ek en hy daardie vervloekte middag uit die huis was. Woorde is maklik. In die daad lê waarde, en wat jy nalaat, word ’n niks. Stilbly is ’n seën. Dit wat nie onder woorde kom nie, is straks nie só nie. Swygsaamheid kweek stil begrip, soos tussen my en my ma, ’n woordelose taal sonder die wanklank van ’n sintaks wat kan skeefloop. Só kan ’n eenvoudige blik van begrip ’n humeur beteuel of twee mense hulle laat verkneukel in humor so lokaal soos ’n familiegrap. “Julle moet praat oor jul lyding, Bertha,” het my suster van alle mense ná die begrafnis gesê. “Sodat julle dit kan verwerk.” My suster, nog altyd ’n rug met goudgeborselde hare en ’n ry fyn knopies tot in ’n dun middel op ’n klavierstoel.
Dit is juis in die sielkundeboeke se “verwerk” dat die gaffels wag. Wie wil na die bloed op ’n ander se lakens kyk of saam wasklip toe daarmee? ’n Gekrap hou ’n wond rou. Wat moet jy sê? Waar moet jy begin? By “Ek wou nooit ’n gestremde kind gehad het nie”? In Eden? Die kinders was al tieners, en toe wil Hendrik skielik praat. Ons moes na ’n berader, oor die spanning in ’n huwelik wat ’n kind soos Le Roux teweeg bring. Week ná week het hy dit my op die hart gedruk totdat ek moes ingee. “Ons leef by mekaar verby.” En ons lyftaal snags? Die man wat hy uitgekies het, was ’n wildvreemde met ’n ronde brilletjie wat ons sit en bekyk het met die skuinsgedraaide kop van ’n lêhen op ’n stellasie. Min soos wat hy gesê het, het sy mond ná elke uitspraak in ’n dun plooi van konsentrasie gaan lê. Hendrik het gepraat. Hy het gesit en ryg aan die een sin ná die ander. Ordentlik soos wat Hendrik kan wees as hy wil, maar die woorde was later soos stortreën om my kop. Mens kon dit nie langer onderskei nie. En hoe minder ek gesê het, hoe driftiger het hy geraak. Ek het sy oë sien soek en sy mond sien betoog, maar my ore het bottoe geslaan. Hy het sestien jaar in twee uur uitgespoeg. Ek wou my kop skud, my oë draai na die berader en laat deurskemer dat ek net mooi niks begryp nie. “Volgende keer is dit u beurt, mevrou,” was die man se groet. Volgende keer. Die gesuis in ’n motor kan soms sus, soms onthuts. Op pad huis toe het die ambulans ons met flitsende ligte verbygesteek. “Foeitog, daar was seker weer ’n ongeluk,” het Hendrik gesê om die stilte te verbreek. Die sirene het in ons oprit staan en loei. Dit is wat van praat gekom het.
Hoofstuk 48
Dit is so stil dat Karen die mans onder in die sitkamer kan hoor gesels. Sy weet hulle gesprek sal nou, soos altyd, in die aanloop tot die afskeid tot ditjies en datjies begin verwater. Wat sê mense vir mekaar by lughawens wat nog nie gesê gekom het nie? Hoe onbeholpe bly was sy en Ben nie om mekaar drie dae gelede op O.R. Tambo te kry ná sy lang wag vir sy verbindingsvlug in Doebai nie. Sedert haar terugkeer is haar ma al soos ’n hondjie op haar spoor, nes voor sy Mali toe is, maar nog met dieselfde aarseling in die mond. En toe keer haar pa gister laat terug, sowaar soos wat sy gevra het met ’n stuk sout van die mark vir haar in die hand, en netnou vlieg hy en haar ma al klaar terug Kaap toe. Sy begin die babadoek losmaak. Haar ma haal ’n stapel frokkies uit die rak en begin dit een-een oor opvou. “Wat maak Ma?” “Ek … ek kry jou jammer dat jy sonder hulp in die huis sal moet regkom.” “Dalk kan Jakob oor ’n ruk vir Ben by sy nuwe werk inkry as hy net eers begin het, Ma. Of dalk kom AngloGold se belofte aan Ben tog af.” “Ja?” “Die ou wat Ben so ter wille is, gaan afhangend van sy bevordering na óf die gevestigde myn in Amerika óf Sunrise Dam in Australië. En as hy sywaarts verplaas word, gaan hy na Colombia in Suid-Amerika. Ben glo dit is waar hy die nodigste sal wees as kontrakteur omdat hulle daar nog nie begin myn het nie. Ek hoop nogal daarvoor. Al sal die ander twee ook goed wees.” Haar ma wil glimlag. “Dit bly ver, my kind.”
“Dit lyk darem nie vir my Pa skrik vir ’n vliegtuig nie, Ma.” Haar ma sug, kyk af en buk om die kruippakkies uit te haal. Behalwe vir Pikaninie se geluidjies is dit te stil in die kamer. “Jy … jou pa … Jou pa gaan homself begin glo hy is Mali toe om te gaan kyk na die ooreenkoms tussen Newton se vroegste bewegingswetsketse en Timboektoe se wetenskapmanuskripte, Karen.” Sy bly lank stil. “Hy moet dit glo. Op sy ouderdom wil hy dit glo.” Haar ma kyk stip vir haar, sodat haar oë prik om nie weg te kyk nie. “Ek is jammer, my kind.” Sy kyk af na haar baba. “Mali was vir my wonderlik, Mamma.” Sy tel haar seuntjie op en hou hom teen haar bors. Sy handjie mik na haar hare, sodat sy koes, bly vir die afleiding. “Ben het belowe, omdat dit vir so lank kan wees, mag ek dié keer saamgaan buiteland toe. En ek het klaar op die internet gaan loer. Colombia is ’n kunsmekka waar die vroue glo spinnekoppe het hulle leer weef. Hulle maak die wonderlikste hoede uit palmvesels en knope uit been, en met boomgom verf hulle oor houtwerk tot dit blink soos glas. Ma kan Ma indink, El Dorado was oorspronklik ’n stamhoof wat homself met goudstof bestrooi het.” Haar ma lyk tog nog ’n bietjie bleek. “Sal Ma-hulle kom kuier?” Sy kyk liewer na haar baba, en druk haar lippe teen sy slaap. Hy bly in haar arms wriemel. “Ben meen ons moet soveel as moontlik dollars bymekaar kry om weer voor te kom. Hy spot tot dat party mense se sussie dan dalk ’n Colombiaan van geboorte kan wees. Of wie weet, ek gaan my bes probeer met die hotelkompetisie.” “Ek hoop dit gaan goed, my kind. En ons sal kom kuier.”
Haar ma se hande het stil geraak op die handdoekstof, asof sy vergeet het wat sy doen. Toe fladder een weer na haar bors, en asof die hand verlig is om iets te kry om te doen, vou sy haar kraag plat. “Vir … vir ’n ou dogtertjie sal ook ek reg om die wêreld reis,” sê haar ma, en haar stem word klein. Nou is ook Karen se voorraad woorde wat die wyn oor middagete so laat vloei het op. Die baba kla kliphard. “Jakob,” vermaan sy huiwerig. Maar toe kry sy voetjies vastrapplek op haar maag, die vastigheid waarna hy gesoek het. Sy vingertjie kom regop en die geel straaltjie spuit half teen haar ken, half teen haar keel, en gly langs die sonbruin van haar bors tot teen die soom van haar T-hemp. In konsternasie kyk sy na haar ma, dan na die baba, en dan na die nattigheid wat al hoe groter oor haar lyf vlek. Karen bars eerste uit van die lag, asof die nat skok haar ’n kort voorsprong gee. En haar ma begin liggies skud, ook vir die seuntjie se vraende gesiggie oor wat nou voor hom gebeur. Sy sit Jakob neer en hou aan die kas vas soos sy lag. Oor haar ma se wange rol die trane. Haar pa roep van die trap af, bly eers stil en kom opgestap toe hy nie antwoord kry nie. “En nou?” vra hy geamuseerd om die deur, hand agter die oor. Hulle laghuil so hulpeloos dat hulle nie vir hom kan sê wat gebeur het nie. Sy wys net na die nat kol, na die baba en laat haar voorvinger opwip: “Sy … sy … kwikstertstertjie het sy ma nat gewieps!” “Kom, Oupa se hart se punt.” Haar pa tel die baba op. “Kom na Oupa toe. Hierdie vroumense is so behep met hulle stories en speletjies, hulle sal nog
wragtig ’n pot sout gryp en jou vingertjie bydam as ’n man net sy ding wil doen. En as jy ’n soutpieletjie word, gaan Oupa se kwaai ouma in haar graf omdraai, en almal sê ons wil mos nou die ou dinge ten einde raad onder die grond los, of hoe?”
Bibliografie
Die storie van Sunjata en feite oor griots kom hoofsaaklik uit Sundiata, an epic of old Mali, soos opgeteken deur D.T. Niane. Die toneelstuk Sunjata se speelvak by die Markteater in Johannesburg was van 14 Januarie tot 6 Maart 2011 en is aangepas en geregisseer deur James Ngcobo. Al die karakter Oumu se insigte en die ander inligting oor modderdoek kom meestal uit Bogolan, shaping culture through cloth in contemporary Mali, deur Victoria L. Rovine. Die boek waardeur die karakter Karen oor mandjiewerk blaai, is Basketry, a world guide to traditional techniques, deur Bryan Sentance. Die verwysing na ’n “wilde dogter”, rakende besnydenis, kom uit Into Africa, a journey through the ancient empires, deur Marq de Villiers en Sheila Hirtle, so ook die verwysing na die reisskrywer wat praat van Afrika se uithouvermoë. Dieselfde skrywers se Timbuktu, the Sahara’s fabled city of gold, het baie Timboektoe-feite opgelewer. Die inligting oor Timboektoe se wetenskaplike (en ander) manuskripte kom uit die DVD The Ancient Astronomers of Timbuktu, waarvan Guy Spiller die regisseur is, en The meanings of Tumbuktu, saamgestel deur Shamil Jeppi en Souleymane Bachir Diagne. Die feite oor slawe kom, benewens bogenoemde bronne, meestal uit Africa, a biography of the continent, deur John Reader. Die Kaap-Maleise sentimente kom uit die essayboek oor die kunstenaar Bearni Searle, Approach; What is slavery to me? Postcolonial/Slave memory in postapartheid South Africa deur Pumla Dineo Gqola; en Gabeba Baderoon se artikels “Everybody’s mother was a good cook: meanings of food in Muslim cooking” en “Catch with the eye: change and continuity in Muslim cooking in Cape Town”.
Oumu se opmerking oor ’n Hôtel de charme kom uit die Bradt-reisgids Mali, deur Ross Velton. Wat sy oor Suid-Afrikaners sê, is gegrond op ’n aanhaling uit Antjie Krog se ’n Ander Tongval. Die inligting oor die soutroetes kom hoofsaaklik uit The African Middle Ages 1400–1800, deur Roland Oliver en Anthony Atmore, en Pre-Colonial Africa: Her civilisations and foreign s, deur F.J. Nöthling. Die inligting oor Aristoteles en resusstatistieke kom uit Developmental Psychology Theory, Research and Applications, wat saamgestel is deur David R. Shaffer. Die inligting oor parallaksmeting kom uit Physics, principles with applications, van Douglas C. Giancoli, en dié oor Heisenberg uit onder meer Concepts of modern physics, onder redaksie van Arthur Beiser. Die aanhaling uit die boek wat die karakter Heleen uit Nieu-Seeland sou aangestuur het, kom uit Native wisdom for white minds, deur Anne Wilson Schaef. Die stormloop om die Djinguereber-moskee en gepaardgaande sterftes het werklik plaasgevind, op 25 Februarie 2010. Ek is baie dank verskuldig aan dr. Rashid Begg, godsdienssosioloog, voorheen verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch; dr. Hester Smit, pediater; dr. Matilde Burden, kultuurhistorikus; Webster Austen, afgetrede stadsingenieur van Middelburg; Hannelie Kemp, dieetkundige; prof. Hannes Els, voormalige inwoner van Alice; Sandra De Wet-Postma, ma van staal van twee uitblinkers; Hester Malan, ma van klein Hannes; Namibiër Ronelle Rademeyer; Maria Hagglund, inwoner van die Sadiola-myn by Kayes in Mali; die reisgids Anita de Beer, wat my oë en ore was in dié land. Margot Pakendorf het my Markteater toe gestuur, Jaco Visser het ’n kernbelangrike e-pos aangestuur en die Mooiloopleser Barry wat vir my van Heisenberg vertel het, se van het ek tot my skande verloor. My grootste genade bly egter my gesin en wyer familiekring se altyd beskikbare kennis. Elmarie Otto, Sandra Troskie en Erika de Beer was die eerste geduldige lesers van die manuskrip. Dineke Volschenk se raad was bepalend en dié van Jeanette Ferreira goud werd. En wyle Gretel Wÿbenga het geloof gehad in wat ons nog nie kon sien nie.
Oor die boek
Opsomming
Wanneer Karen en Ben Strauss se baba gebore word, besef Karen en haar ouers opnuut dat haar broertjie Roux se lang skadu nog altyd oor hulle elkeen val. Sal Karen se kind ’n nuwe begin wees, in haar pa se woorde “’n impakspeler wat net voor beseringstyd op die veld kom en die blerrie WP ’n slag laat wen?” Want onwillekeurig is haar pa, Hendrik, se aftrede tyd vir bestekopname, vir die verskrikking van saamleef met jou doen en late. En wat van Karen, wat glo haar ma het haar nooit vir haar broer se dood vergewe nie? Gaan vrees wéér die motiveerder wees vir hierdie nuwe wedloop van haar lewe, soos met die meedoënlose maatslag van die Radetzky-mars op elke atletiekbyeenkoms van destyds? Sy moet boonop ’n ontwerpkompetisie wen, want daardie podium sal haar en Ben se finansiële redding moet wees.
In hierdie roman word die leser geneem op ’n reis na die binnewêreld van die kunssinnige Karen en van haar siniese fisikuspa. Dit is die verwikkeldheid van vergiffenis wat die verhaal rig, en hulle eindelik ook ná die trauma laat kennis maak met die gestroopte skoonheid van Mali in Wes-Afrika.
Oor die skrywer
Carié Maas het jare se ondervinding aan die produksiekant van finansiële publikasies. In haar loopbaan was sy onder meer produksieredakteur van (toe nog) Finansies & Tegniek en adjunkredakteur van die reistydskrif Mooiloop. Sy was ook betrokke by die produksie van Sake24 in Beeld en Rapport en Nedbank se publikasies. Sy woon in Johannesburg, en vryskut van tyd tot tyd vir tydskrifte soos rooi rose en De Kat.
Sy het in 2012 die Debuutprys vir Koljander gewen in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd.
Lees ook ander romans deur Carié Maas, ook beskikbaar in e-boekformaat
Jannie Mouton – En Toe Fire Hulle My (2011)
Jannie Mouton – And Then They Fired Me (2011)
Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms) Bpk, Heerengracht 40, Kaapstad 8001 Posbus 551, Kaapstad 8000, Suid-Afrika www.humanrousseau.com
Kopiereg © Carié Maas 2013
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingbewaring of -ontsluiting.
Omslagfoto: Gallo Images Omslagontwerp: Michiel Botha E-boekontwerp: Trace Digital Services
Ook beskikbaar in druk:
Eerste uitgawe 2013 ISBN: 978-0-7981-5926-5
Epub-uitgawe: Eerste uitgawe 2013 ISBN: 978-0-7981-5927-2 (epub)
Mobi-uitgawe: Eerste uitgawe 2013; ISBN: 978-0-7981-6271-5 (mobi)