Siobhán van die sirkus
Jaco Fouché
Human & Rousseau
Aan Klein-Piet en Columbine
1
Ons sit in die Bamboesbos Pizzeria. Dis natuurlik ek, want in my lewe speel niks af sonder dat ek die middelpunt daarvan is nie; dis maar een van daai dinge. En ek is die een met die naam wat al hoe meer mense deesdae reg uitspreek, al vrees ek die skade is reeds gedoen deur die miljoene kere wat ek “Sioebên” genoem is. Dis “Shiwon”, my magtig, dis hoe ’n mens dit sê, met ’n w soos in witwarm-klap-as-jy-weer-my-naam-verkeerd-kry. My naam was seker veronderstel om ’n eksotiese element in my lewe te wees. Of dalk moes dit my net geduld leer, want ek moes al baie mense reghelp. Ek gee die ander twee van “ons” die skuld vir my gesukkel as kind: Koert, die gryskop man aan my linkerkant wat hom my pa noem en nog steeds vertel hy was by met my geboorte, maar darem nie meer vertroulik ná ’n drankie fluister: “Ek kon nie glo dis my kind se kop nie” – en Alta, die oorspronklik swartkop vrou aan my regterkant wat haar hare blond kleur en haar my ma noem, maar soms (ek is amper seker daarvan) ontken sy het geboorte aan my gegee. Want my maniere is darem net te erg, sal sy sê wanneer ek krapperig voel en wens die hele blerrie wêreld wil net uit my kamer bly. Dan wil ek niks en niemand sien nie en veral nie mense wat vir my probeer verduidelik waarom ek niks en niemand wil sien nie. Wat gee ek om as ek besig is om “groot” te word? Kyk hoe lyk “groot”. Groot lyk soos die ekstra knoffel en salami wat Koert op sy ekstra-groot pizza gelaai het. En as hy dit oorleef, sal hy vanaand buite moet slaap. En dis nie asof Alta juis beter doen in my oë nie. Kyk hoe geniet sy die wyn en hoe glimlag sy sodra iemand in haar rigting kyk. Haar wenkbroue is ook te dun. Dit kom van haar tienerjare af, toe sy dit eendag gepluk en dit nooit weer ordentlik teruggegroei het nie. Sy sê vir my: “Laat dit vir jou ’n les wees. Die stommighede van ’n mens se jeug ry jou later in jou lewe.”
Dit sê sy ook oor Ronnie, wat die laaste tyd genadeloos amper elke weekmiddag sy motorfiets skuins op ons sypaadjie parkeer en dan met die helm in die hand aan ons deur kom klop. Nou die dag sê ek vir hom: “Haai, is jy met die helm gebore dat jy weet ek is hier?” Lame grappie, ek weet, maar Ronnie grinnik net sy 48-tand glimlag en vee sy hare plat en vra of ’n mens dan nie koffie kry hier rond nie. Kompleet nes my pa sou vra. Maar ek laat hom inkom en sit, want hy is darem geselskap en hy gee aandag aan my. Oor aandag kan jy Alta niks vertel nie. “Ons gee jou al die aandag wat jy wil hê,” sê sy. “Ons kom net agter jy’t dit nie meer so nodig soos vroeër nie.” Ek wens my ma wil minder praat. ’n Ding kan so duidelik soos die blou lug wees, en dan sal sy uitgaan, opkyk, terugkom en sê: “Dit reën nie vandag nie.” Sowaar? vra ek, maar nie hardop nie, want ek is nie lus vir nog ’n lesing oor my maniere nie. “Aangename plek,” sê Koert in die Bamboesbos Pizzeria en glimlag vir my. Ek kyk lusteloos rond. Die meubels is van hout. Daar is houte op die mure. Tot die eienaar van die plek lyk soos iets wat uit ’n boomstomp gekap is. By die ander tafels sit gesinnetjies en paartjies en lyk onverklaarbaar gelukkig. “Almal en alles ruik oud,” sê ek en trek ’n gesig. Koert en Alta glimlag tegelyk. Ek kan sweer hulle het nie gehoor wat ek sê nie. “Wat gaan deesdae in jou lewe aan?” vra my ma. “Ons kry so min tyd vir gesels.” Maar dis die probleem! wil ek gil. Ons praat heeldag en aldag. Julle suig my leeg vir inligting oor die “jeug van vandag”. “Ek wil weggaan,” sê ek.
“Waarheen?” vra Alta. “Ons gaan mos elke skoolvakansie weg,” sê Koert. “Ja, maar altyd na die goorste plekke toe.” “Dis waar ons familie is. Jy moet jou familie ken.” “’n Mens moet ander mense ook ken.” “Watse mense?” “Mense by wie jy iets kan leer.” “Maar wat wil jy leer?” “Die dinge wat troebadoers weet.” “Sing Ronnie?” vra Alta. Sy klink agterdogtig. “Ek wens hy het. Nou sit hy heeltyd met Pa oor rugby en praat.” “Ronnie weet baie van die spel,” sê Koert. “Hy weet nog meer van …” Ek bly stil. “Van wat?” vra Alta. “Hy lyk so onskuldig. Eintlik selfs naïef.” “Ken jy die duiwel?” vra Koert tergerig. “Wat maak hy met jou?” vra Alta met nog meer agterdog. “Niks, Ma! Hy verken die omgewing.” “Watse omgewing? Het hy aan jou … gevat?” “Ma! Hy verken die omgewing op sy motorfiets. Hy weet baie van aardrykskunde en toerisme. Hy wil eendag die wêreld sien.” “Koert, praat met jou dogter.”
“Siobhán, as jy ooit voel iemand nader jou op ’n ongepaste …” begin Koert. Hy lyk geamuseerd en ek wonder of die wyn hom ook aangetas het soos vir Ma. “Pa!” sis ek. “Wat gaan met julle aan? Ons kan nêrens heen gaan sonder dat julle aan my karring nie.” “Koert,” sê Alta vermanend. “Dis Ma ook,” sê ek vies. “Waarheen wil jy gaan?” vra Alta. “Ek het ’n bietjie rondgekyk … en ’n plek gekry.” “Dis nog meer as ’n jaar voor jy klaar is met skool. Dan kan jy doen wat jy wil,” sê Koert. “Nee,” sê Alta. “Sy sal gaan studeer.” “Ek praat van die vakansie. Hiérdie vakansie. Net so tien dae.” “’n Skoolkamp?” “Nee, dis eintlik …” “’n Kerkkamp? Uitstekend.” “Nee! Dis ’n sirkusskool.” “’n Wat?” vra my ouers tegelyk. “Ek wil net iets anders doen as wat ek tot nou toe gedoen het.” “Siobhán, hulle gaan jou olifantmis laat optel. Weet jy hoeveel mis maak ’n olifant? Ek het eenmaal ’n homp vir die winkel gekoop. Droog, natuurlik.” “Pa!” “Ek stem saam met jou pa. Dis misbruik maak van kinderarbeid.” “Daar’s nie diere nie,” kners ek dit uit. “Dis ’n skool waar ’n mens leer om ’n
akrobaat of ’n nar te word.” “Maar jy wou nog altyd ’n onderwyseres word?” “Dis so verlede jaar, Ma. Hierdie is iets wat ek nóú wil doen. En dit sal die vakansie gouer laat verbygaan en dan is ek in elk geval nie in julle hare nie.” “My kind, jy was nog nooit in ons pad nie.” Maar dalk is julle in myne, dink ek, maar ek skaam my vir myself. Soms kry ek die goorste gedagtes.
2
Die eksamen maak klaar en die laaste paar dae gaan ons ons antwoordstelle se punte na, kyk ’n boring doccie oor geboortebeperking en gaan dan uitmekaar vir die vakansie. Ek stap huis toe, my romp hoër opgetrek as wat die skool toelaat, en my hare los, al weet ek die rekkie maak so ’n golf aan die een kant. Dis net tydelik, ek fix dit maklik. Wat my meer pla, is die feit dat ek nogal goed bedeeld en die onderwerp van die jonger ouens se gespot is. Soos nou – die simpel spul op die oorkantste sypaadjie met hulle op en af aanmerkings. Maar dis oukei, dit maak nie saak nie. Dis vakansie en ek voel goed. By die huis probeer ek vir Alta systap, maar sy hoor my inkom en roep my na die badkamer toe – wat vandag weer chaoties is. Sy het ’n klomp droë fynbos ingekry en is besig om dit te kleur vir Saterdag se markie onder die berg. Ek help my ma soms. Sy betaal my redelik goed vir die hulp by die huis en al die ure agter die opslaantoonbank by die markie waar ek gelukkig ’n bietjie grimering mag dra. Die bossies fynbos hang pers, rooi en geel aan toue en drup in die bad. Daar sit kleursel aan Alta se gesig. Sy is eintlik mooi, dink ek toe sy oor haar oor vee en ’n bietjie rooi daaraan afkom. “Ma gaan eendag ’n mooi ou vrou wees,” sê ek. “Ek is nog lank nie daar nie, maar dankie. Vat gou hier.” Ek help bokse met reeds droë blomme in die motorhuis pak. Alta werk so van die huis af. Ek weet sy werk hard en ek is eintlik trots op haar. Miskien moet ek dit ’n slag vir haar sê.
Later die middag raas ’n motorfiets in die straat. Ek sê: “Ag, bliksem tog,” en Alta vererg haar. “Jou taal, Siobhán!” “Maar dis alweer Ronnie.” “Hy is ’n gas wat jou geselskap die moeite werd vind. Wees gaaf.” Ronnie kom in en ons gaan sit soos altyd in die woonkamer. Hy praat gewoonlik nie veel nie, wat miskien ’n goeie ding is. Enigiets wat ons doen, is oukei met hom. Ek het hom al getoets met die ergste chick flieks denkbaar, maar hy kyk hulle sonder om te moan of iets goors te sê. Hy drink ook chamomile-tee en knik wanneer ek vir hom my poppe wys waarmee ek as dogtertjie gespeel het. Een middag het ek hom gevra of hy nie ’n romp sal aanpas wat ek korter wil maak nie en dit het sowaar gelyk of hy dit sal doen. Maar Alta het dit gehoor en haastig kom sê: “Siobhán, jy steur jou nooit aan naaldwerk nie. Wat is dit nou? Ronnie, wil jy koffie hê? Die oom sal nou-nou hier wees, dan kan julle rugby kyk.”
“Hallo,” sê hy vanmiddag by die voordeur. Hy het ’n nuwe hemp aan en die donker skynsel wat ek soms op sy bolip sien, is weg. Hy glimlag met al sy tande. Ek probeer, soos ek partykeer maak, tel hoeveel ek tegelyk kan sien, maar sy lippe gaan toe. Ons speel mahjongg in my pa se studeerkamer. Dis ’n onvolledige stel wat Koert by iemand gekoop het. Ek is amper seker Ronnie haat die speletjie en hy is in elk geval nie goed daarmee nie, maar hy speel om my ontwil. Dis die vreemdste gevoel om te vermoed hy sal enigiets vir my doen. “Gaan maak vir ons tee,” sê ek na ’n ruk en mik na my kamer toe. Hy gaan kombuis toe en ek hoor hom en Alta praat. Oomblikke later kom sy by
my kamer in. “Wat gaan met jou aan?” vra sy in ’n fluisterstem wat ek seker is ’n mens tot by die Engelse kerk kan hoor. “Moenie die man so treiter nie. Maak jy self vir julle tee!” Toe ons kort daarna tee drink, vra Ronnie: “Wat beplan jy vir die vakansie?” “Ek gaan ’n bietjie weg.” “O.” Hy klink teleurgesteld. “Ek gaan sirkus toe.” Hy glimlag en drink sy tee. Dalk het ek hom al te veel nonsens in die kop ingeprent vandat hy hier kuier. “Regtig. Ek het plek in ’n sirkusskool gekry.” “Waar is dié skool?” “Nie ver hiervandaan nie. Ek gaan vir tien dae.” “Om wat te doen?” “Ek wil ’n nar word.” Hy frons en staar my aan. Dalk het ek regtig die laaste ruk te ver met hom begin gaan. “Hoekom wil jy ’n hanswors word?” vra hy. “Nie ’n hanswors nie, Ronnie, ’n nar! Narre verstaan die lewe. Narre laat ander lag, maar steek hulle eie pyn weg.” “Watse pyn het jy?” “Net dié wat hier uithang,” sê ek sarkasties. Ronnie kyk my op en af, sy oë groot. Dit voel of my borste gloei en ek kan nie glo ek is so mislik met hom nie.
“Siobhán!” waarsku Alta uit die kombuis. “Toemaar, toemaar, ek makeer niks,” sê ek vir Ronnie. “Ek wou sê. Vir my lyk jy baie gesond.” Hy glimlag met soveel vertroue, ek onthou ’n labrador wat ons jare gelede as troeteldier gehad het.
3
Ronnie loop vroeg omdat ek skimp. Nou het ek so ’n uur. Ek het ’n oorgroot pak van die helderste rooi en geel, met oorgroot sakke en enorme geel en rooi skoene in die stad gekoop. Daarmee saam kom ’n wit skedelpet met skelrooi hare wat weerskante uitbol. Ek het die boonste deel van my gesig wit gemaak, maar ek het nie heeltemal die regte grimering nie, so die skakering is nie presies die skedelpet s’n nie. Maar ek trek die pak aan en paradeer in my kamer voor die spieël. Die klere is so sakkerig, g’n mens kan sien hoe groot my borste is nie. Jy sien net ’n frisserige figuur wat haar eie skoene raaktrap. Eintlik moet ek sê sy skoene, want ek lyk soos ’n mansnar. Daar’s natuurlik vrouenarre ook, maar hulle is gewoonlik die witgesig soort en op die oomblik stel ek meer in die rondvallerige boemelaar belang, so ek het my wange en ken bruin gemaak, asof ek ’n baard het. Dis heerlik om die klere aan te trek. Ek is nooit haastig nie en bekyk elke stap in die spieël, van my onderklere tot die bont hemp en aanknip-strikdas. Dan die onderbaadjie, die broek en die baadjie bo-oor, en die skoene. Teen hierdie tyd is ek lankal gegrimeer, want ek doen dit eerste om nie die klere te bemors nie. En nou staan ek in my narpak, ’n hartseer trek om my mond wat ek, al moet ek dit nou self sê, nogal goed opgeverf het. Ek is mos ’n boemelaarnar. Ek gooi my arms na weerskante oop en wieg terug op my hakke sodat die enorme skoene se punte lig. Net voor ek val, kom ek regop, sak eenkant toe, my hande om my gesig, die vingers wyd. Ek loop krom, ek loop regop. Gooi my kop agteroor en lag, trek my vals wenkbroue saam sodat ek ellendig bedroef lyk. Van die bewegings ken ek nou al, want ek oefen my gesigsuitdrukkings en
houdings. Maar ek waag altyd ’n paar nuwes, wat my ma dalk vulgêr sou noem. Ek bedoel, ek is tog vermom en as ’n mens vermom is, kan jy enigiets doen. Dan moet ek uittrek, want Koert kom van die werk af. Alta het my al in die narklere gesien, maar ek loop lig vir my pa. Dalk skrik hy as hy my so sien en weier dat ek sirkusskool toe gaan. Dit neem tyd om die grimering af te kry. Ek sit voor die spieël en kyk hoe ek weer die ou Siobhán word, en is ’n bietjie teleurgesteld. Maar Koert is hier en ek gaan in om hom te groet. “Wat doen jy vandag wat die moeite werd is om van te hoor?” vra hy met ’n reguit gesig. “Sit in my kamer en krepeer,” sê ek. “Mooi, my dogter. Pa wil nie hê jy moet jou tyd mors nie, so krepeer gerus voort. Wat is dit dié?” Hy vee onder my oor en sy vingerpunt is wit. Alta sien dit. “Het jy al ’n naam?” “Nee.” “Naam vir wat?” vra Koert. “Vir haar hanswors.” “Dis ’n nar, Ma!” “Vir jou nar dan.” “O,” sê Koert. “Jou nar. Is jy nog steeds aan die gang met die sirkusskool?” “Pa weet mos ek gaan. Dis volgende week. Ek praat al hoe lank daaroor.” Koert skud sy kop. Ek sien die grys in sy langerige hare. Vir ’n ruk het hy ’n poniestert gedra wat geel was aan die punt, maar dit het hy ’n paar maande gelede afgesny en gesê hy is te oud daarvoor. Dit het my gepla toe hy so praat, want ek kon sien hy bedoel dit.
Alta sê sy dink mense gee hom partykeer ’n harde tyd oor hy soms so eksentriek kan wees. Ek wonder of ons ’n eksentrieke gesin is. “Wat gaan dit kos?” vra hy. “Ek het gespaar. Dis my geld van werk by die markie met die blomme.” “En wie gaan jou soontoe vat? Waar is dit?” “Ek gaan haar vat, Koert,” sê Alta. “Dis nie so ver nie.” “Ek is net bekommerd oor my enigste kind, dis al,” sê hy. “Waaroor, Pa? Dis ’n bekende skool. Baie mense gaan soontoe.” “Jy was nog nooit so lank van die huis af weg nie. Hoe lank is dit? Die hele vakansie?” “Tien dae. Ek sal orraait wees.” Hy skud weer sy kop. Maar ek dink nie hy sal verder vasskop nie. Koert is ’n inskiklike man, sê Alta altyd. Dan doen hy ’n ding wat my verras. “Kom hier,” sê hy vir my. Hy sit in die ou gemakstoel wat hy self met roomkleurige kunsleer oorgetrek het. ’n Mens kan die growwe steke aan die een armleuning sien. Dis van toe hy nog nie mooi geweet het hoe om die materiaal vas te werk nie. Maar aan die ander kant van die stoel kan jy sien hy het geleer. Dis hoe Koert is, hy leer dinge en doen dit gou goed. Ek voel ’n bietjie simpel om by hom op die leuning met die growwe steke te gaan sit, want ek het dit lanklaas gedoen. Maar Koert is my pa en ’n dogter en haar pa het glo ’n spesiale band. So ek gaan sit daar, my arms gevou, en kyk af na hom. Hy maak my arms los en vat my hand. “Dis hoe jy my hand vasgehou het toe jy klein was.” En hy vou my vingers om sy duim, wat warm en droog voel. ’n Snaakse gevoel kom oor my, iets wat my laat sluk.
“My dogter moenie te gou groot word nie,” sê hy, my pa, Koert, die man wat die oudhedewinkel in die hoofstraat het, met die outydse kinderstootwaentjie onder die winkel se naam. “Ek sal mos nie, Pa. Dis net iets wat ek wil doen.” “En jy kom terug na ons toe, met of sonder ’n rooi neus.”
4
Koert vra my oor die narpak, maar ek wil dit nie vir hom aantrek nie. Hy knik net en praat toe maar oor ’n beeld wat hy die oggend gekoop het. Dit was baie vuil en hy het die hele middag gevat om dit met ’n borsel skoon te skrop. Die beeld is die moeite werd, sê hy. Hy kan dit voor die winkel laat staan om aandag te trek. “Kinders gaan dit verf,” sê Alta. “Dalk verf hulle dit nog mooi. Dalk laat hulle die beeld soos ’n hanswors lyk.” Hy kyk vinnig na my. “Dis ’n nar, dis wat ’n mens dit noem,” sê ek.
Die aand voor ons ry, lê ek in die bed met my musiek sag aan. ’n Man sing oor hoe hy oor die heuwels stap om na die uitsig onder hom te kyk terwyl hy na sy geliefde verlang. Ek weet skielik nie meer of ek wil weggaan nie. Maar dis al so lank wat ek daarna uitsien, en ek het mense gebel en dinge gereël en geld, my eie geld wat ek gespaar het, in ’n bankrekening inbetaal en ’n kwitansie en kaart in die pos gekry, saam met ’n brosjure met die prent van ’n witgesig nar daarop. Ek het inligting oor narre op die internet gesoek; hulle geskiedenis, die verskillende soorte narre wat ’n mens kry en grimering en kostuums en oor sirkusse. Ek was selfs biblioteek toe om ’n paar boeke oor narre uit te neem. Die bibliotekaresse het met ’n glimlag vir my gesê: “As jy van narre hou, hier is Harlekyn-boeke.”
Duh! Dis ’n reeks liefdesverhale en ek stel nie belang nie! Soms wonder ek of dit my moet bekommer, die ding dat ek ’n bietjie gril vir die liefde. Eendag het ek dit vir Alta vertel en sy het gesê: “Dis iets wat jou beskerm teen te vinnig grootword. Wanneer jy reg is vir die liefde, sal jy dit aanvaar.” Daaraan dink ek terwyl ek in die donker lê, en ook aan wat ’n mens moet doen wanneer jy klaar is met skool. Dit lyk al hoe meer vir my asof die lewe sommer gou minder lekker kan raak. Maar dit help ook nie om nou al daaroor te stres nie. Ek moet my regmaak vir die tien dae wat voorlê. Koert en Alta bring my albei weg. Dit voel verder as wat ek my voorgestel het. Ek voel skoon benoud oor die afstand, want dis waar wat Koert gesê het, ek was nog nooit so lank van die huis af weg nie. Die sirkusskool is so ’n entjie buite Wellington, op met ’n pad wat ’n man by ’n winkel vir ons beduie. Ons ry verby vrugteboorde en grasveld en geboue, en rye bome. By ’n bordjie met handgeverfde letters wat lees Klein-Piet en Columbine ry ons teen ’n skuinste uit, oor ’n nek en dan in ’n vlak kom tussen nog bome in. Koert hou stil voor ’n saal en houthutte. Dit laat my aan die Bamboesbos Pizzeria dink. ’n Groepie jongmense wat daar rondstaan draai in ons rigting, en my hart is skielik baie klein vir dié ding wat ek aangepak het. Maar dis ’n mooi dag en almal lyk vrolik en vriendelik. Gou het Koert op sy gebruiklike manier homself voorgestel en die ys gebreek. “Ek is Siobhán,” sê ek ’n paar keer en weet ek gaan my naam een of ander tyd moet spel. Dalk moet ek ’n bynaam kry of myself net San noem. Maar ek hou tog van my naam. Dis effens ongewoon en trek aandag. “Dis ’n bietjie afgesonder,” sê Koert en kyk oor die oopte langs die saal waar ’n paar braaidromme staan en ’n stapel vuurmaakhout lê. ’n Mens kry vandaar ’n mooi uitsig oor die dam en die perde wat in die groen gras staan en wei. Verderaan loop ’n laning bome en anderkant hulle sien ons die rante. “Dis pragtig hier,” sê Alta. “Ek is bly jy’t gekom. Jy gaan dit geniet.”
Ons laai my bagasie af. Daar is my sak met gewone klere en die groterige tas met die narklere en die moewiese paar narskoene. Alta omhels my. Koert lyk verleë. Hy groet my en waai vir die mense wat nog daar rondstaan. En toe ry hulle en ek bly agter. Dit voel skielik koeler hier tussen die vreemdelinge en die bome en die berge waar die skadu’s al langer word.
5
Dis dalk die beste om met Greer vriende te maak, dink ek aan tafel toe ons toebroodjies eet en vrugtesap drink. Daar is twintig mense wat die kursus gaan doen, drie van hulle saam met my in ’n hut. Ek hou nogal van hulle, dink ek, maar ons sal moet sien. Ons het maar pas ontmoet. Daar is ’n meisie met groot heupe en sakkies onder haar oë wat lyk asof sy al dinge beleef het. Sy vertel ewe ongeërg sy het verlede jaar selfmoord probeer pleeg. Dis asof sy vir kritiek of ten minste kommentaar wag, maar niemand reageer nie. Toe vertel sy sy het ’n dronk man wat by haar aangelê het, halfdood geslaan. Nog steeds sê niemand iets nie. Sy is hier omdat sy ’n aktrise wil word en daar is glo nie beter voorbereiding as om te leer om ’n nar te wees nie. Sy is Alet, kwaai en intens, en erg geïrriteerd met simpel, kinderagtige ouens wat by haar probeer aanlê. Elaine weer is lank en het breë skouers. Sy lyk fiks en sterk, en met haar donker vel is sy vir my beeldskoon. Sy vertel sy ry graag branderplank. Sy wil eendag in ’n sirkus werk en is reeds ’n goeie akrobaat, soos ons later agterkom wanneer sy saam met ander vlugvoetiges in die lug spring en tol en oor die gras rol. Die derde meisie in my hut is Greer. Sy lyk vir my baie volwasse en dis vir my moeilik om haar met ’n rooi neus voor te stel. Wat nog te sê om soos ’n mal ding in die lug rond te tol en toertjies te doen. Sy is in matriek en sy sê sy woon die kursus by om ’n bietjie te chill, want sy weet sy is te ernstig oor die lewe. Greer vra my: “Wat is die mooiste ding wat iemand al van jou gesê het?” “Wel, ek dink … Ek weet nie eintlik nie …” “Dit sal nog kom, jy sal sien. Mense sal sien jy is ’n pragtige mens.”
“En jy? Wat is die mooiste ding vir jou?” “My taalonderwyseres het in my rapport geskryf ek het ’n flair vir literatuur en ek druk myself met finesse uit.” “Ag, my liewe hel. Julle klink soos cupcakes met te veel icing sugar op,” sê ’n stem hard. Dis Alet. Ons glimlag versigtig in haar rigting en praat sagter. Nadat ons klaar geëet en ons goed in die hut uitgepak het, is daar ’n verwelkomingsessie in die houtsaal. Teen een muur is plakkate van narre. Baie van hulle is oud en vertel ’n geskiedenis. Die man wat voor ons staan, verduidelik van ’n lang tradisie in die komedie van improvisasie en kuns. Hy praat oor harlekyne, die Pierrot-figuur, die Augustenarre, die Columbine-vrou op wie die mansnarre verlief raak in die vertonings. Hy wys dié figure vir ons uit op die plakkate. Ek is in die sewende hemel, want dit is waaroor ek op die internet en in die biblioteek navorsing gedoen het! Die man noem homself Klein-Piet. Dis ’n afleiding van Pierrot, sê hy. Dis sy skool hierdie en hy was al op baie plekke in die wêreld. Hy is skaars een en ’n halwe meter lank en sê hy is net-net te lank om ’n dwerg genoem te word, maar hy het die hart van ’n frats. Dit sê hy en struikel kastig oor sy eie weerkaatsing, want teen ’n ander muur is ’n groot, lang spieël gemonteer, soos by ’n balletskool. Vir ’n paar oomblikke haal hy manewales uit wat ons almal laat lag. Ek kan sommer sien ek is tussen my eie mense. “Julle is hier om baie dinge te leer, maar onder andere moet julle leer wat julle plek in die wêreld is, hoe dit lyk en hoe julle moet optree. Dit alles kry ons in die sirkuswêreld: die waardige en gesofistikeerde harlekyn wat vir die ander vertel wat om te doen, die Pierrots wat soveel rolle vertolk, soms ondergeskik, soms dominerend, die grootneus narre wat hulle teen die harlekyn se baasskap verset en sy bevele doelbewus verkeerd vertolk.” Dit voel vir my ek droom, maar Klein-Piet praat verder. “Dis waar komedie vandaan kom, uit moedswilligheid, toeval en geleentheid,
maar meer nog, dis waar intrige vandaan kom. “Julle is hier om oor intrige te leer, want julle gaan die lewe in om julle eie verhale te skep en te vertel. Die basiese reg van elke mens is om sy of haar eie verhaal te leef en te weet dis ’n geldige verhaal.” Ná hierdie mond vol kyk ons ’n fliek. ’n Mimiekkunstenaar beeld ’n storie op ’n kaal verhoog uit. Hy is beautiful: ’n wit gedaante met dwarsstrepe oor sy hemp. Eers maak hy liefde met ’n denkbeeldige maat, dan groei sy maag in swangerskap uit, dan gee hy geboorte aan ’n figuur wat eintlik hyself is. En hy word groter en speleriger, dan minder spelerig en ernstig, en hy is duidelik ’n grootmens met baie stres. Ander mishandel hom en hy gaan hangskouer deur die lewe. Dan ontdek hy iets wonderliks op ’n stoel, ’n denkbeeldige boksie wat hy oopmaak, en dit besiel hom en hy raak weer trots en bly en dis weer lekker om te lewe. Hy geniet ’n tyd van voorspoed, drink wyn en rook sigare. Dan word hy ouer en loop stadiger en krommer, en uiteindelik sterf hy in ’n hopie. Ons klap hande en juig toe dit klaar is. Alet en Elaine gaan vorentoe en praat met Klein-Piet, wat na hulle moet opkyk. “Ons hutmaats is intense mense,” sê Greer wat by my bly sit het. “Hulle is ernstig oor die kursus. Waar kom jy vandaan?” “Van ’n dorp in die Overberg.” “Ek is van Kaapstad af,” sê sy. “’n Privaatskool waar ek te goed na my sin vaar.” “Hoe kan ’n mens te goed vaar?” “Ek weet nie hoekom ek dit doen nie, ek bedoel so hard werk nie.” “’n Mens pluk die vrugte daarvan.” “Die vrugte van harde werk is net nog harde werk.”
“Nee!” “Ja. ’n Mens leer nou hard en presteer en mense verwag dit daarna jou lewe lank van jou. Dis beter om vroeg al te leer om jouself te geniet. Dis wat ek hier wil leer.” “Ek is seker jy sal,” glimlag ek vir haar, en my hart voel warm toe sy terugglimlag. “Wat is jy?” vra sy my. Ek verstaan nie mooi wat sy bedoel nie, maar ek sê: “Ek is ’n nar.” “Dan is jy ’n dwaas.” Ek weet eers nie of sy my beledig nie. Sy gaan egter voort. “Dis ons dwase se voorreg om geluk in die wêreld te bring. Ek en jy moet mekaar leer om goeie dwase te word.”
6
Dié nag word ek van harde stemme wakker. Ek weet dadelik waar ek is, so ek het miskien nie diep geslaap nie. Ek is in die hut, op die boonste bank. Greer slaap op die bed onder myne en Alet en Elaine oorkant ons. Die lig is aan en ons trek ons oë op skrefies. “Kom, kom, kom!” roep ’n ou. Daar is twee van hulle. Hulle het modder op die vloer ingetrap. Iets aan hulle herinner my aan skoolsokkies, soos op ’n warm dag na pouse wanneer almal weer terug is in die klas. “Opstaan, opstaan, watse geslaap is dit dié?” “Uit!” skree Greer. “Wat sê jy daar, my lekker lyfie?” Die ou kom stadig na Greer toe gestap. “Bly weg van my af!” Elaine sit op haar bed. Sy kyk van die een ou na die ander. “Julle moet loop. Julle gaan geskors word.” “Hoekom is julle so lelik met ons?” sê die ander ou. “Laat ek by jou kom sit.” “Bly weg van my af.” Elaine trek haar duvet tot teen haar ken op. “En hoe lyk dit met jou?” vra hy vir Alet op die boonste bed oorkant my. “Voetsek!” sê Alet driftig. “Jy’s so ’n lekker dikketjie. Vir jou druk ek heelnag vas.” Alet klim van haar bed af, ’n vasberade trek op haar gesig.
“Ou kwaaitjie, my maatjie,” sê die ou en steek sy arms uit om haar ’n drukkie te gee. Hy het dit nie verwag nie, want Alet klap hom so hard dat hy doer eenkant op die grond gaan sit. “Loop nou,” sê Greer. “Of ons roep die eienaar.” Die ou wat Alet geklap het se maat help hom regop en hulle loop vloekend uit. “Blerrie goed,” sê die een. Van buite af skree die ander ou: “Net reg vir naai, vir niks anders nie!” Ons kyk geskok na mekaar. Almal behalwe Alet. So kwaad het ek iemand nog nooit gesien nie. Sy loop op en af in die hut en trek haar hande deur haar hare. “Hoekom doen hulle dit?” “Hulle is sommer simpel,” probeer ek. “Ek praat van mans. Hoekom maak hulle so? Ek moet gaan stort. Ek voel vuil.” Alet kry ’n handdoek wat oor haar bed se koppenent hang en ’n plastieksakkie met blommetjies op. “Moet jy nou uitgaan?” vra ek versigtig. “Wat as hulle nog daar buite is?” Sy gee ’n kyk wat my stil maak en loop by die deur uit die nag in. “Hoe laat is dit?” vra Elaine. “Halfdrie,” sê Greer. “Ek gaan nie nou weer kan slaap nie,” sê Elaine. Ek voel klein en jonk in my nuwe vriendinne se geselskap. “Is jy oukei?” vra Greer vir my. Sy het opgestaan en ’n trui oor haar pajamas aangetrek.
Ek knik. “Toemaar, jong, hulle dink hulle is op ’n skoolkamp.” Die hut se deur gaan oop. “Hulle was in die badkamers,” sê Alet. “Die plek is heeltemal bemors.” Ons gaan almal uit buitentoe. Dis koud onder die naghemel. Ek hoor nagvoëls, maar is te bewus van die ander meisies om my veel aan die omgewing te steur. Dis hulle wat my moet veilig hou. Ek sien lig in een van die seunshutte se vensters en dit laat my maag draai. In die badkamer lê oral modder: in die wasbakke, oor die vloer, in die geute wat die storte se water afvoer. Dis ’n vieslike gemors. “Ek glo dit nie,” sê Greer. “Dis vandalisme.” Alet draai om en gaan uit. Ons volg op ’n veilige afstand en sien hoe sy aan die seunshut se deur hamer. “Maak oop!” roep sy. “Gaan flippenwil bed toe en slaap!” skree ’n ou terug. “Kom maak skoon die badkamer.” “Doen dit self.” “Julle is ’n spul lafaards.” Dan is dit stil. Ons drie staan so ’n paar meter weg van die hut waar Alet se figuur onduidelik is in die lig wat deur die venster val. Die lig word afgesit en haar silhoeët verdwyn. “Kan ons nie maar gaan slaap nie?” probeer ek. Ons hoor Alet weer teen die deur slaan. Dit gaan oop. “Moenie vir iets soek wat kon gebly het nie,” sê ’n ou.
“Wie dink julle is julle?” “Gaan slaap net.” “Wat gaan aan? Ons het niks aan julle gedoen nie.” “Die ouens het ’n bietjie gedrink en toe …” “Aha!” roep Alet. “Môre is hierdie sirkusfamilie kleiner, dit belowe ek julle. Spul suiplappe.” Van die seunshut af praat stemme ongeduldig. “Kom ons los dit net,” sê ek. “’n Mens los nie so iets nie,” sê Alet. “Ek stem saam,” sê Elaine. Hulle twee stap terug na ons hut toe. Greer fluister sarkasties vir my: “Ons het darem dapper kamermaats. Voel jy nie veiliger nie?” “Nee!” sê ek benoud. Ons gaan self ook terug hut toe. Elaine sit op haar bed. Alet loop weer op en af. “Wat maak jou so kwaad?” vra Greer. Alet druk haar hande teen haar gesig en vir ’n oomblik dink ek sy gaan huil. Maar dan skop sy haar plakkies uit, trek tekkies aan en is weer by die deur uit die donker in. “Waarheen gaan jy?” hoor ons ’n ou vra. Hulle moes nader gekom het. “Ek gaan julle nou rapporteer.” “Wag, wag, ons sal die badkamer gaan skoonmaak. Gerswin en André het ’n bietjie handuit geruk, maar hulle slaap nou en sal dit nie weer doen nie. Ek sal sorg daarvoor.” “Nou moet jy jou mislike maatjies se handewerk regmaak?” “Ons is almal hier om iets te leer. Vergeet van vanaand. Kyk, daar kom Theo al
met ’n besem. Ons maak die plek tjop-tjop skoon.” Alet kom terug by die hut in. “Dis hoe dit gaan. Hulle beskerm mekaar.” Sy kyk na my. “Jy sê nie weer ek moet niks doen nie. ’n Mens kan nie so ’n muis wees nie.”
7
Vanoggend skyn die son oor die berg en die wêreld lyk mooi. By ontbyt kyk ons na die ouens, wat self ook in ons rigting loer. Die twee wat in ons hut was, lyk oes – bleek in die gesig en die oë rooi. “Is julle klaar in make-up?” vra Alet hard. “Flippen narre.” Die ou wat die skuldigste lyk, skud sy kop. “Dis nie nodig om so aan te gaan nie.” “Julle het die badkamer soos julle gatte skoongemaak,” sê Alet. “Ek het vanoggend grond tussen my tande.” “Ons eet eintlik baie goed hier,” sê Elaine om die onderwerp te probeer verander. Sy het nog kos gaan inskep en het dit seker nodig vir haar lang, sterk lyf. “Dit kos genoeg,” sê Greer. “Het jou ouers betaal?” vra ek. “Ja, jong. Nog skuld wat ek met prestasie sal moet terugbetaal.” “Gaan jy nou die beste nar van alle tye word?” vra Alet, wie se aandag nog steeds by die ouens is. Dis nogal iets om haar dop te hou. “En jy?” vra Greer, wat vir Alet glimlag, maar haar nie antwoord nie. “Wie betaal vir jou?” “Self,” sê ek, so trots dat Alet na my kyk asof sy my nou eers raaksien. “O?” sê sy droog. “Hoe mooi.” Ek praat onwillekeurig sagter. “Ek help my ma by ’n markie en sy betaal my daarvoor. Toe spaar ek.”
“My pa is ook ’n armgat,” sê Alet. “Wel, hy was nie tot die flippen regering loop staan en verander het nie. Nou skryf hy soos ’n mal mens sy lewensverhaal wat niemand wil uitgee nie en vertel vir almal hy het sy fortuin in aandele deur ’n kroekspul verloor.” Greer waai haar met die hand stil en praat verder met my: “Jou pa lyk na ’n interessante man.” “Hy het vir jare ’n poniestert gehad, maar toe besluit hy hy is te oud daarvoor. Hy het ’n oudhedewinkel.” “Regte oudhede of sommer net junk?” vra Alet. Ek huiwer, besluit dan sy terg. “Dis eintlik sommer net rommel.” Alet glimlag. Sy’s nogal mooi as sy glimlag. “Ek moes jou nie ’n muis genoem het nie,” sê Alet. “Dalk het jy die hart van ’n jakkals.” “Ons sal moet skuif,” sê Elaine. “Ons is op kombuisdiens.” Dit beteken ons vier was skottelgoed en skil groente. Daarna gaan ons saal toe waar Klein-Piet met sy verbasende diep stem sê: “Julle gaan vanmiddag vir ons iets opvoer van so vyf minute lank. Ek en Columbine wil kyk waarmee ons te doen het. “Elke hut is ’n span. Kom met enigiets vorendag. Die meisies en die seuns kan lede uitruil as hulle so voel.” “Ons voel beslis nie so nie,” sê Alet. “Hoe gaan julle die mansrolle speel?” vra een van die ouens gebelg. “Hoe gaan júlle?” kap Alet terug. “Viva Las Vegas,” sê Elaine en ry op haar stoel se agterpote. Sy is stil, maar selfversekerd, kom ek agter. Sy en Alet staan vir g’n ou terug nie.
Ons begin beplan ons opvoerings daar in die saal. Die mense sit koppe bymekaar en praat opgewonde, behalwe miskien die twee drinkers van gisteraand. Elaine gaan iets akrobaties doen en ’n man speel. Greer gaan ’n ouerige vrou wees. Ek bieg: “Ek het ’n pak hier. Ek kan ’n boemelaar speel.” “Nee, Jakkals, nee. Jy gaan daai bedorwe Greer se bedorwe dogter wees, nie ’n flippen boemelaar nie.” Alet sê sy gaan die man van die huis wees, sy het haar pa al goed dopgehou. Dit maak my selfbewus om so voor die ander te repeteer. Alet en Elaine neem die leiding, Alet met die storie, Elaine met die choreografie. Elaine beïndruk my. Sy’s baie atleties en aantreklik, en dink houdings en karakters uit wat my wil laat hande klap. Sy loop soos ’n soldaat, dronkie of dominee, en mimeer ’n tandarts of bibliotekaris. Wanneer sy klaar is met ’n karakter vee sy haar lang hare oor haar skouers terug en staan hande in die sye en luister, gewoonlik na Alet wat goedkeurend knik en na die volgende deel van ons opvoering aanbeweeg. ’n Uur voor middagete gaan ons groepie weer kombuis toe en maak kos. Daarna eet almal en ons vier was skottelgoed voor ons vir ’n halfuur in die hut gaan lê en ontspan. “Dis ’n rustige kamp,” sê Elaine. “Hulle jaag ’n mens nie rond nie.” “Jakkals,” sê Alet. “Jy het iets gesê van ’n pak.” Ek haal die tas uit en lig die narpak uit. “Dis pragtig,” sê Greer. “Kyk die kleure.” “Het Pappa betaal of jy self?” vra Alet. “Ek self. Hy moes stad toe om goed vir die winkel te gaan soek en toe gaan ek saam en kom op die pak af.” “Hmm,” sê Alet.
Elaine knik vir my. Sy hou ook van die pak. Greer vryf vriendelik oor my skouer voor ek die tas wegsit.
Die middag van die opvoering is ons groep eerste aan die beurt, sommer so in gewone klere voor die res van die mense. Daar speel musiek wat ek nog nooit gehoor het nie, grappige, opgewekte musiek wat ’n mens lus maak vir rondval en snaaks wees. Die musiek is baie hard, want ons mag nie praat nie. Greer sit op ’n stoel en hekel kamtig. Ek speel haar tienerdogter wat by die huis kom en ’n kabaal opskop. Alet hoor dit en kom in, ’n woedende pa wat vinger wys en op sy vrou en dogter skel. Sy doen dit so oortuigend dat ek nie sukkel om bang te lyk nie. Dan kom Elaine daar aan; sy is die polisieman wat die geraas ondersoek. Alet stamp aan haar en sy val agteroor, rol oor die vloer, kom regop, gryp vir Alet en hulle rol oor mekaar terwyl ek en Greer vies eenkant staan en gril vir die “mans” se manewales. Die musiek word afgesit en ons is klaar. Die ander groepe voer ook elk ’n toneel op, maar die beste een vir my is die vier ouens wat laas nag se twee drinkers insluit. Hulle doen ’n rampartytjie en raak al hoe dronker en dronker. Ons skree naderhand soos ons lag. “Waar’s die improvisasie?” vra Alet hard toe die ouens klaar is. “Hulle het heelnag geoefen.” Klein-Piet sê: “Nou goed, dis ’n opleidingsituasie en nie ’n kompetisie nie. Maar die vier dronkies verdien dalk eervolle vermelding. Nou volg ’n oefensessie, want ek sien van julle blaas nogal na die opvoerings. ’n Goeie kunstenaar is ’n fiks kunstenaar. Jan-Lourens,” sê Klein-Piet vir ’n ou wat ouer en baie atleties lyk, “vat jy die groepie uit teerpad se kant toe.” Ons gaan almal eers na ons hutte toe om tekkies en gemaklike drafklere aan te trek.
8
Dis stil tussen die bome toe ons na die teerpad toe draf. Ek hou nie van draf nie. Dis nogal ongemaklik as jy so goed bedeeld is soos ek. So ek hou gou op hardloop, die ander moet maar dink wat hulle wil. Greer is self nie juis een vir oefening nie en ons stap agter die tou hygendes aan. “Ons is baie afgesonder hier,” sê Greer. Ek hou al hoe meer van haar. Ek wil naby haar wees, na haar gesprekke luister, haar glimlag om haar mond sien plooi. “Kyk,” sê sy en wys na ’n boom. ’n Eekhoring skarrel teen die stam op, toe met ’n tak langs en spring dan na ’n boom langsaan. Die dunner tak sak laag onder die diertjie se gewig en skiet weer regop toe hy aanbeweeg. Om ons val die sonlig in stukkies deur die bome se blare. By die pad staan twee groterige voëls en vier kleintjies. Ek dink dis kiewiete. Hulle hou ons dop tot ons byna by hulle is voor hulle skree en oor die teer laat vat. Oorkant die pad, weg van die meer klipperige terrein, lê vrugteboorde. Daar is ook ’n opstal met ’n ou wit huis en buitegeboue met sinkplaatdakke. Die plek is pragtig en omring deur ’n groen grasperk. Ons sien ook ponies. “Kom ons gaan kyk!” sê Greer. Ons is net betyds om te sien hoe die drawwers om ’n draai verdwyn. “Reg,” sê ek. “Kom!” Ons stap met ’n grondpad na die opstal toe, verby ’n dam en ’n perdekamp met spierwit houtheinings reg rondom. Op die agtergrond staan die berge ru teen die wit wolke en blou lug.
By die naaste skuur gaan ons staan, want ons hoor ’n mansstem. “Waar’s my sleutels?” Ons loer om die hoek. Dis Klein-Piet in ’n blou oorpak. Hy kyk om hom op die grond rond. Hy staan langs ’n trekker wat ’n groot tenk agterop het. Water loop van ’n hoë pyp af met ’n tuinslang langs by die tenk in. Greer maak groot oë vir my. “Klein-Piet!” hoor ons ’n vrou roep. “Wat wil jy hê?” grom hy. “Waar’s my sleutels?” “Klein-Piet!” roep die vrou weer. Hy kyk op en sien ons. “Middag,” sê Greer selfversekerd. “Ja,” sê Klein-Piet. “Het julle nie dalk sleutels gesien nie? Kyk saam met my.” Ons begin soek, op die grond, onder die trekker, op die trekker. Klein-Piet stap verder weg, na die deur in die skuur waaraan ’n toe slot hang. Sy oorpak se moue en broekspype is opgerol sodat hy nie daarin moet verdrink nie. “Klein-Piet!” Die vrou klink heelwat nader. “Wat wil sy nou hê?” vra hy onderlangs. “Sien julle die sleutels?” “Nee …” “Klein-Piet!” Die vrou verskyn agter een van die ander buitegeboue uit. Sy lyk na ’n plaaswerker. “Gaan weg, ek is besig!” roep Klein-Piet. “Kyk mooi, julle. Die sleutels moet hier iewers wees.” “Klein-Piet!” Die vrou kom nader. “Wat is dit, Veronica?” wil hy driftig weet.
Sy haal ’n bos sleutels uit haar voorskoot se sak en hou dit uit na Klein-Piet. “Ek het dit agter die pakstoor opgetel.” “O. Dankie …” Die vrou kom staan by ons. “Ek gaan darem seker iets kry vir my moeite,” sê sy. “’n Mens werk hard op ’n plaas en dié arbeider is haar loon werd.” Klein-Piet het die skuurdeur intussen oopgesluit en kom uit met ’n deurskynende plastieksakkie vol geel poeier. “Pasop, dié goed is baie giftig.” Hy klouter teen die trekker op en maak die sakkie in die tenk leeg. “Klein-Piet, Klein-Piet moet my betaal,” sê die vrou. “Vir wat? Jy het my ’n guns bewys wat nie deel van jou pligte is nie. Nou sal ek een of ander tyd vir jou ’n guns bewys.” “Ja, Klein-Piet,” sug die vrou en loop gedweë weg. “Kan ek help?” vra Klein-Piet terwyl hy die water toedraai en ’n deksel so groot soos ’n bord op die tenk terugskroef. “Wat maak jy hier?” vra Greer. “Wat maak julle hier? Moes julle nie gaan draf het nie?” “Ons hou nie van draf nie,” sê ons tegelyk. “O.” Klein-Piet beduie om hom met ’n gebaar wat die werf en boorde en perdekampe insluit. “Ek boer ’n bietjie hier. ’n Mens maak nie eintlik geld as ’n nar-instrukteur nie. Maar aan die ander kant seker ook nie met boer nie.” “Ons wil graag na die ponies gaan kyk,” sê ek. “Hoe’t julle geweet ek is hier?” “Ons het die perdjies gesien, nie vir jou nie,” sê ek versigtig. Hy kyk lank na my. Ek wonder skielik of Klein-Piet en die ponies nie eintlik
baie eenders is nie. “Julle lyk nie na sirkusmense nie. Julle lyk heel normaal.” Klein-Piet glimlag, en skielik is die ergerlikheid en spanning weg en lyk hy eintlik baie aantreklik, beter selfs as toe hy ons vroeër toegespreek het. “Ons ís normaal,” sê Greer. “Ek studeer baie hard en Siobhán is ’n baie gelukkige mens.” “Jy het ’n sirkusnaam,” sê hy vir my. “Weet jy wat dit beteken?” “Iets soos Genade van God,” sê ek trots. “Ek hoop die tydjie hier beteken vir julle baie.” “Al is ons normaal?” vra Greer. “Ek sê maar net. ’n Mens wonder mos wat jou studente aanvang.” Greer glimlag. “Was jy ook eers ’n student?” “Dis lank terug. Maar ek is ’n nar, ja. In die val-op-my-gesig tradisie.” “So is jy ’n Auguste-nar?” hou ek my slim. “Soos ek vir julle gesê het, ek is vernoem na Pierrot. Pierrot is ’n verkleinvorm vir Pierre.” “Hy was die nar met die wit pak met die groot knope en die wit gesig.” “Jy klink baie ingelig en ernstig oor die kuns,” sê Klein-Piet vir my. “Ek wil eendag in ’n sirkus werk.” “Dis ’n groot taak wat jy op jou neem, Grimaldi. Maar jy het die lyf vir komieklik wees.” “’n Mens oordeel nie iemand aan haar voorkoms nie,” sê Greer. “Ek moet my tamaties gaan spuit. Julle kan na die ponies gaan kyk, maar moenie
hulle senuweeagtig maak nie.” Klein-Piet stuur sy trekker oor die werf na ’n pad wat gou net twee spore raak in die welige gras. Ons kuier lank by die ponies, voer hulle gras wat hulle met skeurgeluidjies uit ons hande trek, vryf hulle neuse, klop teen hulle flanke, gee vir hulle drukkies. Dis heerlik in die stil omgewing, wat al sagter begin lyk soos die son laer sak. Later lê die skaduwees meters lank oor die grond wat netnou nog geel gevlek was van die sonlig. Dan gaan ’n radio iewers aan en ’n liedjie speel skel en verdryf die stilte. “Ons moet seker teruggaan,” sê Greer.
9
“Julle het almal bewys julle het ’n mate van vaardigheid in hierdie veld,” sê Klein-Piet waar hy voor ons in die houtsaal staan. “Dis hoekom julle gekeur is vir die kursus.” Dis koel in die saal en ek sou eerder buite in die sonnetjie wou staan, dink ek voor ek besef dis juis vir woorde soos dié dat ek hier is. “Hou jy meer van hom as boer of as nar?” fluister Greer. “Hy is snaakser as boer,” giggel ek. Dis ’n lekker grappie om met my vriendin te deel. “En wat is ons in ons veld?” vra Klein-Piet. “Narre,” sê ’n ou. “En akrobate,” sê Elaine. Sy sit arms gevou. Ek dink weer hoe sterk sy lyk, maar sonder om aggressief te wees. “Elkeen van julle het op grond van ’n opstel plek hier gekry. Nou die dag het julle vir ons iets opgevoer. Intussen het julle heelwat kans gehad om die natuurskoon te geniet, want ons wil van hierdie oefening ’n plesier maak en julle kans gee om mekaar te leer ken. Wie weet watse vennootskappe gaan nog uit vandag se verbintenisse voorspruit.” Greer sê: “Dis duidelik hy het opleiding. Hoor net hoe dra sy stem en hoe duidelik praat hy.” “Juffrou, wil jy iets met ons deel?” “Ek het agtergekom jou stem is baie duidelik en kan van ver af gehoor word.” “En?”
“En dis opleiding wat so maak.” “A. Mense, wat weet julle van hierdie kursus?” “Ons kom leer by ’n sirkusskool.” “Nee, ons gaan akteurs word.” “Nee, dis ’n afrondingskool wat ’n mens in die openbaar leer optree.” Klein-Piet sê: “Dis van die redes wat julle in julle opstelle ook genoem het. Nou moet ek julle sê, ek weet nie wat julle gaan leer nie. Ek kan julle net sê wat ek wil hê. En dit is kunstenaars wat opvoerings kan gee en ’n mate van professionaliteit handhaaf, selfs tydens die grootste komieklikheid.” “Hoor-hoor!” sê ’n stuitige ou. Ek sien Alet kyk vies in sy rigting. “Professionaliteit is nie dronk wees in die nag en die plek vol modder smeer nie.” Nou kyk die ouens na Alet. Ek kan niks aan haar gesigsuitdrukking aflei nie. “As mede-kursusgangers julle lastig val of my eiendom beskadig, is daar pêre. Ek hoop dis genoeg daaroor. Goed, ons gaan voort. Komedie as vak, tragedie as vak. Wie kan vir my sê wat is regtig snaaks?” “Wanneer Alet ingedagte raak en haar toonnaels byt,” sê ’n ou. “Jy dink dis snaaks?” vra Klein-Piet. “Dan moet ek vir Alet vra wat is tragies.” “Dat daai outjie dink sy aanmerking sal ongestraf bly,” sê Alet. Sy praat stadig en hard en sit regop om die ouens in die oë te kyk. “Mooi,” sê Klein-Piet. “Solank daar nog woorde is om uit te deel, behoort die vuiste nie te swaai nie. Ek hoor dit gaan so jolig in die nag.” Ons almal kyk rond onder mekaar, Alet ook. “Wie het vertel?” fluister Greer. “Ek dink dis Alet, sy lyk ’n bietjie skuldig,” fluister ek terug.
Ons knik vir mekaar, kop in een mus. “In die opvoerings kon ek sien julle weet van aanbieding. Baie van julle weet ook hoe om julle lywe in te span om ’n storie te vertel wat nie deur woorde gedra word nie. Kan jy vorentoe kom?” vra Klein-Piet vir Elaine. Sy staan lui op en stap met lang, stadige treë vorentoe. Dan vee sy haar hare oor haar skouers terug en wag kalm vir die volgende opdrag of aanmerking. KleinPiet sê vir haar wat sy moet uitbeeld: waardigheid, hartseer, geluk, hartstog. Sy maak die hartstog snaaks en almal lag. “Sy het ’n gawe,” sê Klein-Piet vir die gehoor. “Ek en Columbine voorspel ons almal gaan nog baie van hierdie jong dame hoor. Onthou haar naam. Gaan sit maar … “Reg, hoekom sonder ek haar uit? Nie net omdat sy begaafd is nie, maar omdat julle by haar kan leer. Ek verstaan hoe julle moontlik oor mekaar voel, in kompetisie en gretig om julleself te laat geld, maar julle is mekaar se mentors. Kyk af, steel met die oë en ore, leer by mekaar. En bou kontakte op. Daar is geen rede waarom julle nie produksies op julle eie kan aanpak nie. ’n Mens moet iewers begin.” “Weer Columbine,” sê Greer. “Wat?” Maar Klein-Piet kyk in ons rigting en ons praat nie verder nie.
Die res van die middag improviseer ons. Elaine lei ons deur ies wat vir my byna onmoontlik is. My arms en bene is te kort, my bolyf te groot. Maar ek kry darem ’n hele paar cheers uit mense om my. Greer sê: “Party mense doen snaakse goed. Maar jy ís snaaks.” Dis goed om te hoor en ek haak sommer uit en doen my boemelaarroetine. Van die ander mense hou op met wat hulle doen om na my te kyk. Dis ’n goeie middag, en teen oefeningtyd is ek in my noppies. Ek en Greer stap na die teerpad toe waar sy na die naambord wys: Klein-Piet en Columbine.
“Waar is sy? Columbine?” vra Greer. “Ek dink ons het ’n geheim om te ontrafel.” “Ons kan hom seker net vra.” “Dalk het sy hom gelos.” “Dan sou hy nie die naam gehou het nie.” “Dalk is sy dood?” “As sy is, is dit dalk waar Klein-Piet se kennis van tragedie vandaan kom.” Ek kyk na Greer, onseker of sy spot. Maar sy glimlag haar mooi glimlag en dis onmoontlik om te dink sy kan venynig wees.
Aan etenstafel vra Greer: “Alet, weet jy waar Columbine is?” Ek is teleurgesteld. Ek wou dit eerder my en Greer se geheim hou. Selfs al los ons dit nie op nie, dis soort van ons ding. “Seker dronk in die onderdorp,” sê Alet gelukkig sonder veel belangstelling. “Ek weet dis waar ek wil wees.” Maar dis net praat. Alet het haar goed van haar taak gekwyt. Veral haar vertolking van mans is baie goed. Staan sy arms gevou, is dit met haar voete weg van mekaar of ’n voet op ’n stoel geplant, een arm in die sy, die ander aan die beduie soos nie eens my pa kan nie.
10
Daardie nag hoor ons die ouens weer by ons hut, maar hierdie keer is die deur gelukkig gesluit. Daar is ’n ligte klop en die buitelig gaan aan. Alet klim sonder ’n woord van haar bed af en ons almal sit regop. “Wat soek julle hier? Skoert!” sê Alet vir die ou agter die deur. “Chill,” sê die ou. “Ons kom in vrede. Ons wil net vriende maak.” “Wat laat jou dink ons wil vriende met julle wees?” vra Alet. “Ons het iets wat ons vir julle wil wys, maak oop die deur.” Alet sit die binnelig aan en maak die deur versigtig oop. Die ou in die deur het iets in sy hand wat in ’n stuk materiaal toegedraai is. “Wat het jy daar?” vra Alet. Haar gesig is laag en sy gluur onder haar wenkbroue deur na hom. “Ek dink julle sal hierin belangstel.” Hy maak die stuk materiaal oop en haal ’n musiekinstrument uit. “Dis ’n tamboeryn,” sê Greer verwonderd. “Wie s’n is dit?” vra Alet. Sy staan daar, kort maar fris, haar bobene dik en sterk onder die sweetpakbroek waarin sy slaap. “Ons kry dit in Klein-Piet se kantoor.” Ek trek my asem in en voel dadelik soos ’n verskrikte haas. “Hy hoef nie te weet nie,” sê die ou wat gehoor het hoe ek my asem intrek. “Ons het ’n bietjie gaan rondkyk.” Die ou klink trots. Hy kyk lank na Elaine, toe
terug na Alet. “Dis Columbine s’n,” fluister Greer vir my. “Wat is Columbine s’n?” vra ek. “Als. Die tamboeryn en die rok.” “Is dit ’n rok?” vra ek nogal hard en die ou skud die materiaal oop en hou die rok voor hom uit. “Ja,” sê hy. Dis sowaar ’n rok, blykbaar baie oud, vol borduursels en kant en lintjies wat van die somber materiaal iets besonders maak. “Dis die soort klere wat Columbine sou dra.” “Wie is sy?” vra die ou. “Die een op wie die harlekyn verlief raak,” sê Greer. Ek glimlag by myself. Hmm, Greer het ook haar huiswerk gedoen. “Watter harlekyn?” vra een van die ouens. “Die plek is vol flippen narre.” “Nou wat maak jy hier as jy nie wil leer nie?” vra Elaine. “Ek het gedink dis ’n leierskapkursus. Maar wie wil ’n sirkus lei?” Alet sê: “Ek sal ’n sirkus lei.” Sy vat die rok by die ou en hou dit teen haar lyf. “Dit sal my pas. Dis gemaak vir iemand met heupe, kyk hoe wyd kom dit uit.” “Wie is die harlekyn?” vra die ou weer. “Klein-Piet?” “Nee, hy is Pierrot, Columbine se man,” sê Greer. “Die harlekyn is Columbine se lover.” Die ouens staar Greer skaapagtig aan en frons. Dis asof hulle nie weet wat om met die inligting te maak nie.
Na ’n ongemaklike stilte kry een ou sy stem terug: “Oukei, ons moet waai. Het gedink julle sal dalk van die rok hou.” Hulle loop een vir een by die deur uit, maar die laaste een bly staan voor Alet. Dis die ou wat sy die aand geklap het dat hy op die vloer gaan sit. Hy kyk lank na haar en sy na hom. Ek sien iets in haar oë toe sy haar wenkbroue vir hom lig, maar weet nie wat dit is nie. Dan draai hy om en stap by die deur uit. Alet kyk om die beurt na elkeen van ons. “Is jy orraait?” vra Elaine. Alet knik. Sy trek haar skoene en ’n trui aan en loop ook by die deur uit. “Wat gaan aan?” vra ek vir Elaine, wat lyk asof sy weet. Sy skud net haar kop en klim terug in die bed. “Ons moet gaan kyk,” sê ek vir Greer.
Buite skyn die twee veiligheidslampe bleekgeel oor die perseel en teen die houthutte. Die ouens is terug in hulle eie hut en ons hoor dofweg hulle stemme. Iemand vra: “Waar’s Gerswin?” “Dis wat ek ook wil weet,” fluister Greer vir my. Ons kyk om ons rond. Dan besluit sy op ’n rigting, hoekom weet ek nie, en ons stap tussen die hutte deur na die houtsaal toe. “Waarheen gaan ons?” vra ek. “Daar is ’n klomp seile by die braaiplek.” Ek moet eers mooi dink waarvan sy praat. Maar toe ons om die draai kom, besef ek dis die seile wat op die grond uitgesit word wanneer ons braai. Daar is meer as genoeg vir twintig mense. Opmekaar gegooi, maak hulle ’n heel oukei tydelike bed.
Dis waar Alet en die ou wat sy geklap het bymekaar lê, net-net sigbaar in die bietjie lig wat teen die saalmuur val. Hulle vry wild en sien ons nie. Greer is net so vasgenael soos ek, maar toe Alet haar hand by die ou se broek indruk, besef ons ons moet padgee. Ons draai terug hut toe. Voëls roep in die nag en ek onthou iets van wat Greer eenkeer gesê het: op skool is ’n mens soos ’n voël wat nie kan vlieg nie. Maar ons sê niks vir mekaar nie, veral nie oor voëls nie. In die hut vra Elaine van haar bed af: “Is alles oukei met Alet?” Greer sê: “Ja, sy is ’n groot meisie.” “Dis reg, ja, sy is ’n groot meisie,” sê Elaine en draai om in haar bed.
11
“Iemand was gisteraand in my kantoor,” sê Klein-Piet hande in die sye. Sy stem is hard en dreigend. Dis vroeg. Ek hoor iewers voëls skree. Greer sê onderlangs sy dink dis tarentale. Die son sit al bo die berge aan die oostekant. Ons het nog nie ontbyt gehad nie en almal lyk ’n bietjie verwese met ons blikborde en bekers in die hand. Die mense wat vir die dag op kombuisdiens is, staan saam met ons voor ’n toe kombuisdeur. Klein-Piet wou nie oopsluit nie. “Ek kan iets hiervan maak en die polisie kry.” Hy loop op en af voor ons terwyl hy praat. “Ek vermis enkele items.” Ek kyk rond om die ouens se gesigte te sien en vang die een se oog. Hy kyk lank na my, toe weg, verby my na die hutte se kant toe. Ek draai om en sien Alet naderkom, die opgevoude rok en die tamboeryn daarop in haar hande. “En dit?” vra Klein-Piet toe sy by hom kom. Sy skud haar kop en hou die rok en tamboeryn na hom uit. Hy kyk uitdrukkingloos na haar, neem dit dan en wag tot sy by ons aansluit. “Geen kos vandag nie.” “Wat van die opleiding?” vra iemand vinnig. “Geen opleiding vandag nie.” Klein-Piet loop om die saal, na waar sy kantoor is. ’n Gemor begin. “Dis nou vir jou ’n ding.”
“My pa betaal ’n helse klomp geld vir hierdie lesse.” Alet sê: “Dis vandag se les waarmee jy nou besig is.” “Watse les is dit? Wat moet ek eet?” vra ’n ou. “Wag tot my pa hiervan hoor.” “Kan jy nie maar een krisis sonder jou pa se hulp hanteer nie?” vra Elaine. Ons vier staan bymekaar. Die ander het ook volgens hut verdeel. Een van die groepies beweeg al klaar met die pad langs in die rigting van die uitgang. “Wat gaan ons maak?” vra Alet. “Ons moet kos kry,” sê Elaine. “Dalk kan iemand by die kombuis inkom.” “Nee, dit gaan Klein-Piet laat uitfreak. Dalk kan ons …” Alet kyk na Elaine, wat terugkyk. Hulle het ’n plan, ’n mens kan sien. Dis asof Greer haar kans waarneem, want toe ek weer sien, het sy my eenkant toe gedruk. “Ons kan dorp toe gaan,” sê sy sag. “Ek en jy. Ek ken mense hier.” Alet kom nader: “Is julle twee orraait op julle eie? Ons kan vir julle iets van die dorp af saambring. Ek het genoeg geld by my.” “Dankie, maar ons sal regkom. Gee julle borde en bekers, ons sal dit in die hut gaan bêre,” sê Greer en knipoog vir my. Alet en Elaine drafstap agter die groepie ouens aan en van die ander mense mik ook agterna. “Ons gaan nie opgelaai word as daar soveel mense langs die pad is nie.” Ek voel hees van opwinding. “Ek het nog nooit duim gegooi nie.” Greer skud haar kop. “Ons gaan nie ryloop nie. Dis vir Alet en Elaine.” In die hut bêre ons die borde en bekers, maak seker ons het ons gemaklikste skoene aan en gaan dan uit en af na die teerpad toe. Dis ’n lekker sonnige dag.
Ek mik dorp se kant toe, maar Greer steek oor en ons stap na die opstal waar ons nou die dag vir Klein-Piet gekry het. “Hy gaan ons afslag as hy ons hier kry,” sê ek. “Hy is de hel in vir ons.” “Hy sit in sy kantoor en ons soek in elk geval nie na hom nie. Ons soek na Veronica.” Ek weet nie dadelik wie dit is nie, maar nadat ons ’n plaaswerker gevra het en na die ou huis geloop het, besef ek dis die vrou wat vir Klein-Piet sy sleutels gebring het. Sy is besig om kopergoed op te vryf in die voorportaal. “Môre,” sê Greer vriendelik. “Môre,” sê Veronica versigtig. “Klein-Piet is bo by die sirkusskool.” “Ek weet. Ek …” Greer bly stil. Ek sien sy het die foto’s teen die muur opgemerk. Dis meestal van perde. Hulle pronk, trippel, staan op hulle agterpote. Op baie van die foto’s sit ’n figuur op die perd se rug. “Wie’s dit?” vra Greer. “Klein-Piet. Maar hy is bo by die sirkusskool.” “Ek wil jou gou iets vra. Waar is die vrou van die huis?” “Hier is nie ’n mevrou nie. Dis net Klein-Piet, en ek hou huis vir hom.” “Was hier iemand?” “Ja.” “Waar is sy nou?” “Sy is mos weg. Saam met meneer Gunter.” “Wie is meneer Gunter?” “Hy is die vorige baas van die plaas. Klein-Piet het by hom gekoop.” “Die harlekyn,” sê Greer vir my met ’n stywe glimlaggie. “Wat is die mevrou se
naam?” “Louise.” “En weet jy wie’s Columbine?” “Ek weet nie van haar nie. Ek sien die naam hier bo langs die pad, dis al.” Ek is bly toe ons loop. Dit het te veel gevoel asof ons Veronica misbruik. Maar Greer het my nogal beïndruk ook. Sy tree op soos ’n volwassene. Dalk is dit omdat sy in ’n privaatskool is waar leerders soos volwassenes behandel word, “Dis ’n verrassing, die perdefoto’s,” sê sy. “Klein-Piet het baie dinge aan die gang.” Ons sien van die perde in die kamp. ’n Grote en ’n kleintjie draf langs mekaar. Die kleintjie skop uit met sy agterpote. By die teerpad sê ek: “Lyk my ons gaan tog duimgooi. Dit maak nie saak nie. Die ander het. Hulle is seker al in die dorp.” Greer skud haar kop en steek die pad oor. “Ek dink Klein-Piet kan ons dorp toe vat. Kom.” Ons kry hom nie in sy kantoor nie. Die plek is stowwerig en deurmekaar, die ene rekeninge, advertensiebrosjures en stapeltjies van die blaadjie wat hy vir my gepos het toe ek die eerste keer aansoek gedoen het. Ek lees weer:
Het jy die hart van ’n sirkuskunstenaar?
“Hmm,” sê Greer ontevrede. “Dan is hy seker ook weg.” “Ons kan nie hier rondkrap nie,” sê ek.
“A!” sê Greer. Sy het ’n telefoon half onder ’n stapel papiere gewaar en bel vinnig ’n nommer. “Suné, haai, dis Greer. Ja, ons is hier. Dis ’n vreemde kamp. Ons is vandag aan onsself oorgelaat. Hoor hier, ek en ’n vriendin het gewonder of ons by julle kan kom koffie drink? Net so vir ’n uur of twee. Maar jy sal ons moet kom haal.”
12
Die twee vroue woon in ’n pragtige ou huis met ’n groot stoep en hortjies voor die vensters. ’n Skraal vrou omhels Greer toe ons by die voordeur instap. “Hallo, jong,” sê Martie en gee my ook ’n drukkie. Dis ’n huis vol liefde, dink ek. Teen die mure is skilderye met natuurtonele en portrette van drie pragtige vroue. Ons koek en koffie in die sitkamer, waar twee worshondjies elk op ’n kussing lê en hulle nie veel aan ons steur nie. Die meubels is van swaar, donker hout en daar is ’n vertoonkas teen die muur. Toe ek vinnig daar gaan loer, sien ek ’n harlekyntjie van porselein, met ’n vroutjie in vodde langs hom. “Is dit nie die harlekyn en Columbine nie?” vra ek verras vir Greer. Sy knik. “Ja, dit kan net hulle wees.” “Hoekom het julle hierdie beeldjies?” vra ek vir Martie. “Ons het baie beeldjies,” sê sy met ’n glimlag. “Die hele wêreld is omtrent hier verteenwoordig.” Dis waar. Daar is dwergies, skaapwagters, prinsessies, konings, swaardvegters, paddas, honde, katte en so aan. “Dis allesbehalwe toeval dat jy nou juis daardie een raaksien,” sê Martie. Ek is nie seker of sy my terg nie en ek voel hoe ek bloos. “Hoekom vra jy oor Columbine?” wil Suné weet. Dis Greer wat antwoord. “Dit lyk of ons gasheer ’n effense geheim in hom ronddra.” “Die kort mannetjie? Ja, jy’s reg. Sy vrou het weggeloop saam met ’n boer wie
se plaas hy toe vir goedkoop gekry het.” “Dit was ’n troosprys, die plaas,” sê Martie. “’n Mens hoop maar die arme man is getroos. Maar wat het gebeur dat jy sê dinge is ongemaklik daar?” Greer vertel van die ouens wat die tamboeryn en die rok in Klein-Piet se kantoor gevat het en hoe ontsteld hy was toe hy dit uitvind. “Die arme man kry seker swaar,” sê Martie en sug. “Die dag is te mooi vir somber verhale,” sê Suné. “Vertel ons nou eers wie jy is, Siobhán.” Dis natuurlik ’n lekker oefening, maar ek sorg dat ek nie te veel oor myself praat nie. “En jy wil ’n nar word?” “In ’n sirkus.” “Mens! Dan gaan jy mos die wêreld sien.” “Ons toer baie rond,” sê Martie. “Ons kan vir julle foto’s wys as dit nie te vervelig sal wees nie.” Sy staan op en gaan haal ’n dik album uit ’n groot kas in die eetkamer. Die twee vroue is meestal een-een op die foto’s, maar hier en daar is hulle bymekaar, warm aangetrek voor die Houses of Parliament in Londen, laggend voor die Eiffel-toring in Parys, een keer op ’n bankie in die Switserse Alpe. Ek en Greer is honger en eet van die souttertjies op die skinkbord, toe koeksisters. Die koffie is heerlik. Ek voel baie tuis. “Wat doen julle?” vra ek nadat ons deur die hele foto-album ge-oe en ge-aa het. “Niemand weet nie,” sê Greer droog. “Ek werk by die Koekhoekie vir die afslag op roomkoek,” sê Suné en haar ronde lyf skud soos sy lag. “En dan doen ek ’n bietjie tikwerk.” “En ek is by die poskantoor vir hulle goeie mediese fonds,” sê Martie. “En dan
doen ek ook ’n bietjie tikwerk.” Greer glimlag. “Siobhán, hierdie twee mense maak saam een speurverhaalskrywer en drie liefdesverhaalskrywers uit: Frank de Wet, Martie van Rheenen, Suné Prinsloo en Rina Ferreira.” My mond hang oop. “Sowaar?” “En hulle vaar goed. Dis hoekom hulle so oorsee kan rondflerrie.” “En hoe ken jy hulle?” “Suné is my niggie. En nou is Martie sommer my aangenome niggie.” Dit vat aan my om die vroue so gelukkig te sien. Ons kuier tot in die middag en eet lekker.
Terug by die sirkusskool sê ek vir Greer: “Vroue is soveel beter as mans.” “Dink jy so?” vra sy en klink ingedagte. “Nie een van jou niggies gaan in die middel van die nag Klein-Piet se goed steel of by iemand anders se hut inkom nie. Vroue is nie so nie.” “Jy vergeet van Alet.” Greer kyk na die deur van die hut waar Alet met ’n ou staan en gesels. Sy staan arms gevou, bene wyd uitmekaar. Sy lyk onmoontlik sterk. En ’n bietjie verspot. “Ja, dis waar.” Ek oorweeg dit om vir Greer te sê ek dink Suné en Martie is vrouliker as Alet, maar die gedagte word wasig in my kop en gou weet ek nie mooi wat ek wou kwytraak nie. Die ander mense begin ook terugkom. Teen die aand se kant is die kombuis weer oop en die span aan diens maak vetkoek en maalvleis. Klein-Piet staan met van die ouens en gesels toe ons voor die saal met ons eetgerei wag. Ek kan nie mooi uitmaak wat hy sê nie, maar aan sy bewegings en dié van die ouens lei ek af hulle praat oor jag.
13
Klein-Piet is besig om hout te pak vir ons braai die aand. Ons staan almal in ’n halfmaan om hom en gesels. Een van die ouens vra hom uit oor sy lewe toe hy nog opgetree het, en hoe sy klere gelyk het en watter rolle hy alles vertolk het. Klein-Piet vertel hy het oral in Europa gewerk sonder dat hy veel van die lande gesien het. Daar was net nie tyd vir toer nie. Dit was meestal die binnekante van sale en groot sirkustente waar hy gesteier, geval en ander narre poetse gebak het. Waar hy geskrik het vir die witgesig narre, draaie om die seremoniemeesters en sirkusbase geloop en mense laat skaterlag het. Later het hy Pierrot geword, Klein-Piet, en ’n bietjie status gekry. Toe sê hy: “Dis waar ek Columbine leer liefkry het …” Dalk is dit die mooi laatmiddag en die kleur in die lug en die tarentale wat in die verte saag, dalk is dit die ligoranje vlamme wat aan die hout in die braaidromme vreet wat hom verder laat vertel. “Ek is bevoorreg om ’n groot liefde te kon geken het. Julle meisies sal seker veral wil hoor. Ek weet die seuns is maar filistyne.” “Ek het ook lief,” roep ’n ou uit. “En ek!” Die twee trek tuitmonde vir mekaar asof hulle gaan soen. Ons lag vir hulle manewales en Klein-Piet gee net ’n skewe grynslag. “Sy het weggeloop sirkus toe. Letterlik. Sy was ’n kind van die platteland en haar hart was by die sirkus wat die dorp een keer ’n jaar besoek het. Ná skool sou sy vir haar pa gaan werk het, maar toe die sirkus weer kom en vertrek, is sy saam.”
“Wat het sy gedoen?” vra ek. “Skoongemaak,” sê Klein-Piet vaag. Ek onthou my pa se opmerking oor olifantmis. “En opgepak, afgepak, vasgehou. En geleer optree.” “Was sy mooi?” vra ’n ou. “Ja, ’n baie mooi vrou. Lank en skraal.” “Wat het toe gebeur?” “Toe kom die kans om oorsee te gaan werk. Ek was nie te sleg nie en sy ook nie, en ons is gekeur om deel te word van ’n geselskap. Daar in die vreemde moes ons op mekaar steun en nou ja, julle weet alles van dinge van die hart af, so ek hoef niks verder te sê nie.” “Nee, nee, vertel, vertel!” roep ons gelyk. “Later,” sê Klein-Piet en wys na die pad. “Hier kom buitendien nou ’n gas.” Ons kyk om. ’n Motorfiets het van die teerpad afgedraai en kom met die stofpad aangery. “Bliksem,” sê ek. Greer se kop swaai verras in my rigting. “Wie is dit?” vra sy. “Ronnie.” “Is daar iets wat ek moet weet?” vra sy en frons. “Dis net ’n ou wat omtrent dag en nag by ons huis kom uitkamp.” Ronnie hou voor die saal stil, kantel die motorfiets op sy leunarm, haal sy helm af en sit dit op die saal neer. “Middag, middag,” sê hy toe hy naderkom. “Jy’s net betyds vir ’n tjoppie,” sê Klein-Piet. “Hallo, Siobhán,” sê Ronnie.
“Hallo,” sê ek traag. Ek voel verskriklik van al die oë wat my aanstaar. “Hmf,” maak Alet in my rigting. Die geluid klink na ’n vraag. “Wat maak jy hier?” vra ek. “Dis vakansie. Ek wou ’n bietjie uitry met die fiets.” “En toe kom jy hiernatoe? Van alle plekke?” “Kom ons staan ’n bietjie eenkant toe.” Ek wil nie, maar volg hom en gaan staan by die hoek van die saal, waar ek die ander mense nog in die oog het. “So hoe gaan dit hier?” vra Ronnie. Hy glimlag. Daar is so ’n klein, klein stekie skuldgevoel in my oor ek so min lus is om met hom te praat. “Oukei. Dis nice mense.” “En is jy nou al ’n nar?” “Ek dink so.” “Dis iets wat ’n mens moet doen,” sê hy. “Dis hoe ek gevoel het met die rugbykamp verlede jaar.” “Jy speel dan nie meer rugby nie.” “Ek het besef ek kan nie bereik wat ek wou nie en nou fokus ek eerder op iets anders.” “Rugby is net ’n speletjie. Jy het deur ’n fase gegaan.” “En wat is die sirkus?” “Dit hoef nie die sirkus te wees waar ek werk nie. Hier is akrobate ook.” Maar ek besef hoe simpel is die idee van ’n akrobaat met my potsierlike lyf. “En ander mense wil akteurs word. Hulle leer hier om hulle lywe te gebruik.”
“Dis ’n kwaai een daardie,” sê Ronnie. Ek draai na waar hy kyk en sien hoe Alet ongeduldig met ’n ou praat. “Hulle is my vriende,” sê ek. “En ek? Is ek nie ook nie?” Toe het ek genoeg. Ek voel die man loop by my binneste in net soos hy middag ná middag by ons huis op die dorp inkom. “Ek moet teruggaan. Dis onbeskof om hier eenkant te staan.” Ronnie vee oor sy gesig. “Dan groet ek maar.” Hy draai om en stap na die motorfiets toe, sit die helm op, kantel die fiets regop, skakel dit aan, draai die voorwiel en ry. “Waarheen gaan jou vriend?” roep Klein-Piet. “Weet nie.” “Skaam jou,” sê een van die ouens. “Die ou kom vir jou kuier en jy jaag hom weg.” “Ek het hom nie gevra om te kom nie.” “Julle meisies maak met ons nes julle wil.” “O?” sê Alet. “En wat verwag julle? Val agteroor, bene oop?” “Hoekom is ek die skurk?” vra ek kwaad. “Dis hy wat mý pla.” Die kole gloei nou helderoranje. Klein-Piet stuur iemand om die vleis in die kombuis te gaan haal en die meisie kom met ’n bak terug. Iemand anders bring vrugtesap. Ons gaan lekker eet en dan warm slaap. Ek bly dink aan die arme Ronnie op die motorfiets, op pad terug huis toe. Ek ís seker die skurk. Dit voel of ek my rol as boemelaarnar vanaand behoorlik verdien.
14
“Opstaan, opstaan!” hoor ons Klein-Piet roep. Alet is eerste by die hut uit, met Elaine kort op haar hakke. Ek en Greer bly in die bed. Deur die oop deur kom die reuk van vroegoggend, ’n mengsel van grond en plante en klamheid. “Opstaan, die lewe gaan by julle verby!” Greer sug: “Die lewe is ’n warm bed en ’n dik boek, nie vroeg opstaan nie.” Maar ons staan op en maak gereed vir die dag. Toe ons voor die saal bymekaarkom, ruik ons die spek en eiers en roosterbrood. Klein-Piet het ’n voorskoot aan. “Julle dink dalk dis net mense wat kan perform, maar vandag gaan ons ’n bietjie sien hoe diere hulle ding doen.” “So die ouens gaan vir ’n verandering saamwerk,” sê Alet smalend. Die ouens kyk versigtig na haar, behalwe vir drie wat grinnik asof hulle in ’n sameswering met haar is. Sy het nou die nag weer by ons hut uitgesluip. “Ons eet gou en dan kom julle plaas toe,” sê Klein-Piet. ’n Uur later stap ons met die pad langs na die opstal wat ek en Greer reeds ken. Ek is eintlik lus om te sê ons was al daar, maar dis nog iets wat ek vir my en Greer wil hou. Vandag gaan daar beslis ander mense wees, te oordeel aan die motors en bakkies. Dinge gebeur. Werkers is besig met perde in die groot kamp agter die wit houtheining. Ek ruik hulle, ek hoor hulle hoewe op die grond klip-klop, hoe hulle proes. Daar is heelwat toeskouers. Hulle lyk opgewonde. Van die jong mans is in rydrag: kamaste, stewels, baie blou denims. Ons stap om tot by ’n kraal wat ons
nie voorheen gesien het nie. Hier het die dag goed afgeskop, besef ek toe ek ’n man sien vasklou aan ’n perd wat bokspring. ’n Klok lui en die man spring van die perd af, maar die dier hou aan met bokspring. Een van die ouens bring nog ’n perd in; hy en die dier lyk ewe sterk. Ek herken hom as Gerswin, die ou wat Alet geklap en toe later gevry het. Die perd blaas en bewe en kom teen die leisels orent. “Dis aaklig,” sê ’n vrou. “Ons maak nie die diere seer nie. Perde is gehard,” verdedig ’n man. “Hy is net ’n bietjie senuweeagtig.” Toe klim Gerswin op en vat die tou om die dier se voorlyf vas. Aan die agterkant is daar nog ’n tou om die perd se lyf, dit loop deur die lieste. “Dis hoe hulle die diere kry om te boksprong,” sê Greer vir my, “want dit irriteer die perde.” Dis seker nie twintig sekondes nie: die gebokspring en geblaas en toe die val. Van die toeskouers gil en kom ontsteld nader. Ek staar met afgryse na die beenskag met die growwe voorkant wat deur die bruin vel steek. Die voorbeen is gebreek. Die gladde skag is nie wit nie, maar rooi van die bloed. “Dis nou ’n geneuk,” sê Klein-Piet. “Is jy orraait?” Gerswin staan op uit die losgetrapte grond en klap stof uit sy klere uit. Hy sê niks. Dalk kyk ek te lank na hom en dink hy ek veroordeel hom, want hy vang my oog en kyk stip terug voor hy sy kop laat sak, een hand in sy sy en met die ander hand oor sy mond gevou. Alet lyk baie ontevrede, maar ek moet sê, dis hoe sy gewoonlik lyk. Klein-Piet hardloop na sy kantoor toe en kom met ’n langloop-rewolwer terug. Die slag klap hard in my ore.
Een van die meisies begin huil en die toeskouers maak ontevrede opmerkings. “Dis hoe die dood lyk,” sê Klein-Piet, die rewolwer langs sy been. “Dis ’n onwaardige spulletjie.” Ons bly staan, die hele geskokte klein skare wat die informele rodeo kom bywoon het. “Darem tragies,” sê ’n vrou, haar hand voor haar oë om die son uit te hou. “Nou ja, dit help nie ons staan net hier nie,” sê Klein-Piet. “Julle moet eenkant toe staan dat die trekker kan inkom.” Die perd word met die trekker weggesleep. Sy lyf maak ’n gladde pad oor die kraal se omgedolwe grond. “Waarheen vat julle hom?” vra iemand. “Ons gaan hom begrawe.” “Ek hoop dis nou verby,” sê die vrou wat haar hand teen die son ophou. “Waar is Anton? Ek wil huis toe gaan.” Ek sien hoe Gerswin agter die trekker en die dooie perd aanloop. Greer het kopskuddend weggestap. Dalk is sy op pad terug na die sirkusskool toe. Ek volg Gerswin en gaan staan kort agter hom buite die kraal se klipmuur. Die fyn stof hang in die warm lug. My neus jeuk en my oë ook. Ek voel skuldig omdat ek nie by Greer is nie, maar dis asof iets my by hierdie ou hou. Die trekker met die perd se karkas is nou al ’n hele ent weg. Ek kom agter ek dink anders oor die perd, al voel ek sleg. Dis moeilik om simpatie met ’n dooie ding te hê. ’n Mens se aandag word maklik afgelei deur iets wat lewe. Gerswin lyk sleg, sy lippe is saamgepers en sy wenkbroue opgetrek. Dis nie lekker om hom so te sien nie. “Wat kyk jy?” vra hy my skielik met ’n hees, bot stem. Hy het ’n yl baard en sy
wenkbroue is dik. “Ek is jammer oor die perd.” “Dis ’n flippen dier. Wat gaan almal so aan?” Hy draai om en ek sien hom oor die kort, liggroen gras wegloop in sy blou denimbroek en bruin hemp. Hy is nog vol stof en daar is ’n rooi vlek teen sy regterbroekspyp. Wat anders kan ek doen? Ek loop agterna. Gerswin klim oor die wit houtpaalheining na die volgende kamp waar die toneel met die perde by hulle krippe en waterbakke so rustig lyk dat ek amper vergeet van die karkas en die kraal. Ek ken perde nie goed nie, maar hulle lyk blink en gespierd en gesond en ek kan sien waarom mense hulle wil ry. Dis ’n manier van speel met mooi diere. En hulle is blykbaar vriendelik ook. Want Gerswin het in die middel van die kamp gaan staan, sy hande agter sy kop terwyl hy opkyk. En een van die perde, ’n taankleurige, kleinerige een, kom van tussen die ander perde op hom afgestap, die lang bene hoog terwyl die pote versigtig neergesit word. Ek hoor hom vloek. Dan kyk hy vinnig in my rigting. “Wat maak jy nog hier?” vra hy vies. Hy het nie die perd opgemerk nie. Die dier stap tot by Gerswin en vat sy hempsmou stewig tussen sy tande vas en skud sy kop liggies. “Wat’s jou storie?” hoor ek hom vra, maar hy klink nie meer heeltemal so onvriendelik nie. Die dier begin met hom stap, sy bek steeds om Gerswin se mou, en hy klop-klop hom teen die nekspiere terwyl hulle tussen die ander perde inbeweeg. Ek trek my asem in. Dit lyk kompleet asof die perd hom koudlei. Toe hulle uiteindelik gaan staan, is Gerswin se kop teen die perd s’n en sy arms om die dier se nek. Sy gesig is vertrek en ek hoor ’n snik.
Ek is bewus van soveel dinge. ’n Perd proes. ’n Ander kap met die voorpoot op die grond. In die kamp groei die mooiste groen gras onder die mooiste blou hemel.
15
“Ouens hou van jou,” sê Greer. “Nee wat, hulle sien my skaars raak,” sê ek. “Se voet. Daardie ou het al die pad met sy motorfiets gekom om jou te sien. En op Klein-Piet se plaas by die perde het die ander ouens jou ook raakgesien.” “Ek is rond en groot van voor. Wat sal hulle in my sien?” “Dat jy beskikbaar is.” “Wat probeer jy sê?” “Jy is in die mark. Ek bedoel dit nie lelik nie. Dis net, jy laat weet ouens jy is daar as ’n moontlike maat.” “Dis nie waar nie,” sê ek. Ek voel ellendig. Ek voel ek het Greer in die steek gelaat, maar ek kan nie mooi dink hoe nie. “En jy sien húlle ook raak.” “Is nie …” begin ek, maar onthou hoe ek agter Gerswin aangeloop het. “Toemaar, jy is nog jonk,” sê Greer. “Jy is net ’n jaar ouer as ek!” Sy lyk ontevrede. Ek weet nie vir wat nie. Maar sy haal ’n boek uit en maak haar gemaklik op haar bed. Ek klouter op na my eie bed toe, waar ek op my sy gaan lê. Die deur staan oop en die middagson begin inskyn. Ek hoor mense praat. Ouens. Ek maak my oë toe, maar sien net ouens voor my.
“Jy’s verkeerd oor my,” sê ek vies. “Hm-hm,” maak Greer. “Dis in elk geval jou saak.” “Wil jy nou nie meer my vriendin wees nie?” vra ek stadig. “Ek sal sien.” Greer is nie gewoonlik so kinderagtig nie. Ek voel ’n bietjie mismoedig. Iets moet ek doen, maar wat? Buite klink nog stemme op. Ek herken Alet s’n net voor sy by die hut inkom. “Watse gelê is dit?” vra sy. “Die Saterdagmiddag!” “Ons is rustig,” sê ek. “Put jou liefdeslewe jou uit?” vra Alet met ’n glimlag. “Daar loop Jakkals toe sowaar met my boyfriend weg.” “Ek het net gaan kyk of hy oukei is.” “Ja, hy was nogal tranerig toe ek hom laas gesien het. Jy moet hom maar vat, ek soek ’n heel boyfriend.” “Hulle moes die perd doodskiet, Alet. Natuurlik was dit vir hom erg.” “Ek hoop julle het toe lank en gelukkig gesels.” “Ons het nie juis gepraat nie. Ek is vinnig weer daar weg.” “Jakkals bewonder van ’n afstand af,” sê Greer. Dis die eerste keer dat sy my so noem. “Ag, man!” sê ek. “Nou kom,” sê Alet. “Ons kan tog nie die hele tyd hier sit nie.” “Waarheen gaan julle?” vra Greer.
“Dorp toe.” “Dis Saterdagmiddag. Daar sal niks aangaan nie.” “Die Klopse oefen.” “Watse Klopse? Dis kilometers van die Kaap af.” “Wellington het ook Klopse.” “Kom ons gaan!” sê ek vir Greer, sommer onderstebo oor die rand van my bed. Sy kyk nie na my nie, haar oë bly op haar boek. “Nee dankie. Ek wil vanmiddag net rus. Doen my ’n guns en gaan saam. Jy is mos nou mooi skoon en beskikbaar.” Dit maak seer. Maar ek sê niks en trek my gemaklik aan. Alet wag vir my. “Lyk my julle twee het ’n lelike tiff gehad,” sê sy. “Nee wat,” sê Greer. “O, hel,” sug Alet. “Dan moet julle eerder nie bymekaar wees nie. Kom jy, Jakkals? Klein-Piet wag.” Ek druk my kasdeur toe en hak die slotjie in. Maar waar ek dit gewoonlik sluit, huiwer ek vanmiddag. Want ek voel Greer se oë op my en dis asof ek haar sal uitsluit as ek die slotjie toedruk. Ek kan dit nie mooi verduidelik nie, maar ek voel te skuldig om my kas te sluit. So ek los die slotjie oop.
Buite skyn die son warm op my vel en ek voel sommer beter, veral toe Alet my speels in ’n kopklem beetkry en ’n paar treë voor haar uitstoot. ’n Mens moet haar nie onderskat nie. Al is sy befoeterd, het sy ’n hart. Die meeste van ons klim agterop Klein-Piet se bakkie. Net so drie of vier bly agter, insluitend my vriendin aan wie ek eerder nie nou wil dink nie. Gelukkig vertel Alet grappies, elkeen ’n bietjie smerig. Ons skree van die lag. Ek kom agter daar’s nou meer van ’n groepgevoel, maar Gerswin is nie hier nie.
“Waar’s Gerswin?” vra iemand. Alet skud haar kop toe almal na haar kyk. Dis seker te veel gevra dat sy moet weet. In die dorp laai Klein-Piet ons op die hoek by die skool af. “Wag hier,” sê hy. “Vir?” vra Alet. “Hulle gaan hier om die draai kom.” “En waarheen gaan jy?” “Sake doen.” Toe hy ry, maak Alet asof sy ’n glas drank wegslaan. Ons staan tien, twintig minute daar, ’n bondel bymekaar in die heerlike warm son. Later gaan sit van die mense. Ek hoor staaltjies oor dinge wat in die ander se klasse gebeur, of agter die pawiljoene van die verskillende skole. “Greer is in ’n baie goeie skool,” hoor ek ’n meisie sê. “’n Mens kan sien sy weet van etiket en goed.” Alet kyk vir my en trek ’n skeptiese gesig voor sy glimlag. Nie dat sy juis met my wil vriende wees nie. En ook nie dat sy vir Gerswin mis nie. Want toe ek weer kyk, staan sy eenkant met een van die ander ouens en praat. Die aggressie is weg en sy pluk-pluk met die punte van haar vingers aan mekaar. Dan hoor ons skielik die blaasmusiek en tromslae. En die gejil. Ons sien hulle van ver af met die straat aankom, in blink blou en rooi uitgevat, die gesigte wit en swart opgemaak, strooihoede op die kop. Hulle dans en pronk en draai en swik, die voordansers yweriger as dié wat volg.
Ander toeskouers het begin opdaag. Ons luister na die musiek en die ritme en mense klap hande. Dis ’n lekker jolige affêre. “Wat dink jy maak ons hier?” vra Alet langs my. “Ons leer,” sê ek. “Die Klopse is amper soos narre, want hulle vermaak mos ook.” “Ek bedoel op die kursus, in Wellington. Wat doen jy hier?” Die musiek is hard en vrolik. “Ek wil iets word,” sê ek. “Iets anders as wat jy is?” “Ja. ’n Nar.” “Greer het klaar iets anders geword.” “Hoe bedoel jy? Ons is nog net ’n paar dae hier.” “Voor sy hiernatoe gekom het. Ek sê vir jou sodat jy weet.” En daarmee val Alet by die agterste Klopse in en sing en dans saam. Elaine volg haar, en toe van die ander mense op ons kursus. Ek ook. En ons dans en draai meer as die lang straatblok saam tot ons by ’n skuinste moeg word en terugkom.
16
Gerswin is weg. Sy ouers het hom kom haal, hoor ons toe ons terug is by die sirkusskool. Die ou wat ons vertel, praat sag en met onderlangse kyke na KleinPiet wat hom nogtans hoor en naderkom. Agter hom staan die bakkie met die bestuurdersdeur oop. “Nou goed,” neem Klein-Piet beheer. “Ons het een lid afgestaan aan die onvoorsiene. Die res van ons gaan rustig voort. Vanaand moet julle vroeg gaan slaap. Môre gaan ons berg toe.” “Om wat te doen?” vra ’n meisie. “Ons gaan ’n ent stap,” sê Klein-Piet. “Ek is nie hier om allerhande vreemde goed te doen nie,” sê die meisie. “Die ouens kan in die berg gaan stap.” “Eers die rodeo, nou dit,” sê ’n ander. “’n Mens leer maar min van narre op hierdie kamp.” “Lekker, ’n revolusie,” sê Alet. Niemand dink sy is snaaks nie. “Ons bied julle meer as opleiding. Ons gee vir julle ’n ervaring,” sê Klein-Piet. “Daarom gaan ons in die berg stap.” “En wie’s ons?” Daardie vraag maak almal stil. Koppe draai na die een wat gevra het. Alet. “Hoe bedoel jy?” vra Klein-Piet stadig. “Jy praat van ons. En die naam van die sirkusskool is Klein-Piet en Columbine. Ons sien g’n teken van ’n Columbine nie. Toe wonder ek …” “Aandete is sesuur,” val Klein-Piet haar in die rede. “Dié wat môre nie wil gaan
stap nie, kan agterbly en laat slaap. Dié wat die ervaring wil meemaak, ons vertrek agtuur van hier voor die saal.” Hy klim in sy bakkie en ry weg. Die mense beweeg na hulle hutte toe, ek die traagste van almal, want ek ys as ek dink aan my vriendin, of my eksvriendin, wat kwaad vir my daar wag. Alet gesels met twee ouens en hulle dwaal die struike in. Ek sien die een ou het ’n pakkie sigarette by hom. Sy kyk om en waai vir my. Skielik irriteer haar vermetelheid my verskriklik. Ons hut se deur staan oop. Elaine loop voor my in en ek volg, my skaduwee lank in die son wat nou vol inskyn. Elaine staan in die middel van die hut en Greer sit op haar bed, haar gesig ernstig. Hulle kyk albei na my, toe weg. Dis ’n aaklige oomblik. Wat het hulle nou net gesê? Maar dit help nie ek raak paranoïes nie, so ek stap maar na my kas toe om iets uit te haal en weer terug te sit, net om besig te lyk. Die slotjie is toegedruk. En ek weet ek het dit oop gelos. Ek kyk na Greer, maar sy staan op en loop by die hut uit. Haar boek bly op haar bed agter, langs ’n skerp naelvyltjie wat effens onder die vou van ’n duvet-oortreksel uitsteek. Ek sluit die slotjie oop. My klere lê netjies gepak op die rakke en my baadjies hang aan hangers. Ek kyk in die tassie grimering, maar daar is niks fout nie. Toe gaan kyk ek by die deur uit, maar sien niemand nie. Elaine het op haar bed gaan lê, haar oë toe. Ek voel onrustig toe ek van die tas met die narpak onthou. Ek haal dit uit die onderste rak en maak dit oop terwyl ek op my knieë staan. Die helder pak klere lê gefrommel oor die groot skoene, en dit terwyl ek dit altyd so netjies opvou. Toe ek die klere uitskud, sien ek die pante agter in die baadjie is ekstra groot. Dis oopgesny. En die een mou is by die skouer halfpad losgetorring. Die onderbaadjie se knope is af en lê los onderin die tas. Die broek is geskeur by die heupe. En dan die blink geel en rooi skoene. Daar is diep krapmerke oral op hulle. Elaine roer op haar bed en ek kyk om na haar. Sy hou my dop, haar mond effens oop. Sy vee haar hare oor haar skouers terug in die gebaar wat ek nou al goed ken.
“Heng,” sê sy. “Wat het gebeur? Hoekom lyk die goed nou so?” Ek skud my kop, kyk rond en sien weer die naelvyltjie op Greer se bed. Toe ek dit optel, is die metaal skoon, maar ek sien rooi en geel stukkies op die vloer lê wat van die skoene af moet kom.
17
Die atmosfeer by die sirkusskool het vir my aaklig geword. Greer kom terug by die hut in en my hart gaan aan die klop waar ek op my bed sit, rug teen die koppenent, maar sy kyk nie na my nie. Ook nie na die ander twee meisies nie. “Lovebirds sit altyd vas,” sê Alet hard. “’n Mens moet hulle nie saam in ’n hok sit nie.” Greer kry haar boek en gaan weer uit. “Daar’s nie meer baie lig oor om in te lees nie,” roep Alet agterna.
Met aandete gaan sit ek amper by ’n ander tafel, maar tot my verligting plant Alet haarself langs my en dis Greer wat op ’n ander stoel moet sit. “Dis ’n flippen skande dat mense mekaar se goed verniel,” sê Alet. “Wat sê jy, Elaine?” Elaine knik en eet verder. “En wat sê jy, Jakkals?” vra Alet. Ek staar na my bord kos. “Ag, asseblief!” sê Greer skielik en staan op en stap by die saal uit. “Kom ek wed jou teen môreoggend is sy weg,” sê Alet. Sy hou haar hand na my uit. Ek vat dit nie, skud net my kop. “Jy gaan nie waai nie, gaan jy, Jakkals?” vra Alet.
Elaine sê: “Jy’s ons pel. Jy moet bly. Ons gaan môre lekker ver stap.” “Ek wonder waarheen gaan hy ons vat,” sê Alet. “Hoe bedoel jy?” vra ek. “Klein-Piet is ’n man wat altyd op ’n sending is. Geheime sendings. Weet jy hoekom hy vanmiddag dorp toe is? Hy moes gaan vrae beantwoord oor die perd wat hy moes skiet. Dis dieremishandeling. Hy gaan dalk aangekla word.” “Dit was nogal rof in daardie kraal,” sê Elaine. “Ek dag die perde gaan ’n paar keer pronk en ons kan dalk op die makkes sit. Maar daar is dit toe ’n regte tragiese rodeo.” “Klein-Piet is ’n showman,” sê Alet. “En ek dink hy gaan ons môre iets in die berg wys.” “Soos wat?” Ek bly dom voel. Die kamp is baie anders as by die huis. Dit voel asof my omgewing in beheer is van my, eerder as andersom. “Miskien waar hy vandaan kom. Miskien sy hart. Dalk wil hy vir ons wys en vertel wat hy alles bereik het en sê: ‘Dit kan alles julle s’n wees as julle net by die sirkus aansluit’.” “Ek dink nie ek wil meer by die sirkus aansluit nie,” sê ek. “Miskien kan jy nie anders nie,” sê Elaine. “Miskien is jy ’n natural. Naturals moet doen wat hulle moet doen.” “Vra vir Greer,” sê Alet droog. “Maar ek hoor wat Elaine sê. Jy het ’n goeie roetine uitgewerk. Jy kan eendag nog baie meer doen.” “Dis omtrent die gaafste woorde wat ek jou nog gehoor sê het,” sê Elaine. “Dis vanmiddag se sigarette daar in die bosse. Laat my yl. Jakkals, gaan jy daai brood eet? Ek dink nie jy moet nie. Jy gaan net nog ronder word.” Alet sê dit glimlaggend en ek weet sy werk hard om my beter te laat voel.
18
Dis koel. Ons kry kospakkies en bottels water van Klein-Piet se bakkie af. Ek druk myne by my rugsak in, langs my trui. Ek het ’n denim en ’n los hemp en stapstewels aan. Elaine is ook so aangetrek, Alet ook, behalwe vir sandale in plaas van stapskoene. “Ons gaan in hierdie rigting,” sê Klein-Piet en beduie na die bome en die berg. Hy dra ook ’n rugsak. Daar is mense wat nie wil saamgaan nie, snaaks genoeg party van die ouens. Hulle sê iets van repeteer en vra of hulle die saal vir die dag mag gebruik. Ek het gedink Greer sal bly, maar sy is tog daar, al hou sy haar eenkant van ons drie. Ek probeer dink wanneer laas ek so ’n ongemaklike vriendskap met iemand gehad het, maar ek kan nie. ’n Deel van my wil na haar hardloop en haar smeek om my weer te aanvaar. ’n Ander deel wil hê sy moet gly en val. Nog ’n deel hoop niemand vind uit van daardie twee gedagtes nie. Gly en val kan wel gebeur op die paadjie wat ons nou volg. Ons loop tussen die struike deur teen die skuinste op en stap steunend deur ’n donker woud. Ek sien eekhorings in die bome en voëls op die grond en kyk om na Greer, maar sy kyk nie op nie. Onder ons lê ’n mat van blare. Die lug ruik na plante en klamheid. Ek sien paddastoele langs klippe en swamme teen die bome. Ons loop een-een agter mekaar en moet hard praat om gehoor te word. Die mense wys vir mekaar bome uit, en een keer ’n bok wat ek nie kan sien nie. Die helling raak steiler en ek is gou lam in die bobene. Al hoe meer gaan staan mense om ’n bietjie te rus en die ry raak langer en yler. “Kom, kom, kom!” roep Klein-Piet van voor af. Hy staan soos ’n bosgodjie op ’n rots. “Julle kan nie nou al moeg wees nie. Julle is die belofte vir die toekoms.”
“Sluit aan by die sirkus,” hyg Alet. “Sien die wêreld, word wys en ervare. Niemand het gesê ons gaan moet loop om dit te doen nie.” Ons laat die bome agter. Die paadjie swaai nou om ’n wye kliprant, maar klim natuurlik nog. Om ons groei proteas en heide. Niemand is meer lus om die plante te bewonder nie. Ná ’n uur rus ons om water te drink. Van die ouens gesels met Klein-Piet. Hy praat hard ondertoe. “Ek het hierdie wêreld as kind deurkruis. Daar is min in hierdie berge wat ek nie al gesien het nie.” Agter hom troon ’n piek uit. Ons gaan verder. Die klim die steilte uit raak effens makliker. Mense praat van jou tweede asem kry en dalk is dit wat gebeur. Maar ons loop met klein treetjies, kop laag, sodat Klein-Piet ons op ’n stadium weer stop en laat omkyk. Van hier kyk ons op die sirkusskool en Klein-Piet se plaas af. Ek sien die perde in hulle kampe en die opstal waar Veronica seker nou in die huis besig is. Verder strek boorde en veld na die dorp se kant toe. Damme, lanings en geboue verbreek die groen van die landskap. Anderkant die dorp lê ’n rant en na links nog rante wat Klein-Piet ook uitwys. “Kyk vir Pollie en Loeloe,” sê hy. “Dis granietkoppe.” Sy grinnik sê vir my die twee koppe lyk vir hom ook na borste. “So dis waar,” sê Alet. “Mans dink elke keer as hulle ’n berg uitklim in werklikheid aan seks.” Ons gaan sit: op ons hurke, knieë, ’n klip of sommer plat op die grond. Die mense lyk moeg. “Op my dag het ek binne ’n uur bo gekom,” sê Klein-Piet. “Dit lieg jy,” brom Alet onderlangs. Maar ons druk deur. Ons gaan hoër op met die paadjie; dis nou net ’n smal voortjie in kniediep gras. Uiteindelik kom ons by ’n nek tussen die pieke. Ek was
bang ons moet dalk ’n piek uitklim, maar ons stap oor die nek en aan die agterkant van ’n piek langs. Van hier kyk ons af op ’n vallei, heelwat vlakker en nader as die groot een waarin die sirkusskool, die plaas en die dorp lê. Die son het aanbeweeg en ons is in skaduwee. Dis koud. Na ’n paar minute se stap is my kouse sopnat. “Dis ys wat hier hang,” sê Elaine en buk om daarvan van die grashalms af te breek. “Wat maak hy met ons?” vra iemand en klink moedeloos. “Klein-Piet, ons moet rus!” roep die mense. Klein-Piet gaan staan weer en draai om. “Mense, ons moet beweeg, ons kan nie heeldag hierbo wees nie.” “Wat maak ons hier?” “Beskou dit as deel van jou opvoeding. Dis wat jou dra en dissiplineer.” “Dis waar, dis hoeka my ongelooflike opvoeding wat my keer om bliksem of varkmoer te skree,” brom Alet. Klein-Piet het aanbeweeg en die ywerigste ouens is kort agter hom. Ek kyk terug. Greer is heel agter. Sy staan kniediep in die koue gras en kyk af in die vallei. Ek voel weer ’n prikkie ongemak en besef dan met hoeveel aandag sy kyk. Toe ek haar blik volg, sien ek die opstal onder ons. Klein-Piet en die ouens kort op sy hakke het van die paadjie afgedraai en begin nou met sigsag-bewegings die grassteilte afgaan na die opstal toe. “Nie meer ver nie,” sê ek vir Elaine, wat nie antwoord nie. Van die agterste mense begin verby my beweeg en ek maak plek vir hulle. Toe Greer naby kom, wys ek na die opstal en sê: “Lyk my dis waarheen ons gaan.” Sy kyk verby my, maar knik. Ek val agter haar in.
19
Met die afgaan na die opstal toe sien ons die grondpad tussen die bome deur. Daar loop ook ’n riviertjie, seker ’n meter breed, en hier en daar nouer, maar met redelik baie water. Ons gaan verby ’n pomp op ’n stellasie vanwaar pype in die rigting van die opstal loop. Die opstal bestaan uit ’n wit grasdakhuis en ’n paar buitegeboue waarvan een ’n groterige motorhuis is. Die ander lyk na chalets met plaveisel en heelwat plek om te sit en die omgewing te geniet. Daar is ’n bordjie by die hek waar ons instap: Harry en Louise Gunter. Dit beteken nie dadelik vir my iets nie, maar Greer gaan staan en kyk na my. “Harry Gunter en Louise,” sê sy, en toe: “Columbine het met die harlekyn weggeloop.” Ek voel verspot. Moet ek net knik of selfs niks sê nie? Greer se vyandigheid en my vernielde narpak sit nog vlak in my gedagtes. Maar sy praat weer en ek aanvaar sy soek toenadering. “Dis mooi hier,” sê sy. “So weggesteek.” “Die ander is al by die huis,” sê ek. Greer kyk vlugtig na my. Dit voel of ons weer vriende gaan word. Dit verwar my, maar dis hoe dit gaan in die lewe. Dalk is iemand soos Elaine wat branderplank ry die beste met menseverhoudings. Soms ry jy ’n brander tot op die strand, soms val jy af. Maar jy moet altyd teruggaan en weer probeer. En hoe minder jy daaroor sê, hoe beter miskien. Ons stap na die stoep toe en ontmoet Harry Gunter. Hy is ’n ouerige man met ’n bles en is stylvol aangetrek. Sy hempsmoue is net halfpad teen sy voorarms opgerol. “Piet, dis hierdie slag ’n mooi klompie jongmense,” sê hy en knik vriendelik vir
my en Greer. “Ja, hulle werk hard,” sê Klein-Piet afgetrokke. Sy aandag is blykbaar by die ingang na die huis agter die man. “Baie welkom, almal,” sê Harry Gunter. “Ons gaan iets drink, sommer op die stoep.” Gou word tee en eetgoed uitgedra. Ons eet en drink, maar dis ongemaklik, want iets vreet aan Klein-Piet en dis nie veel van ’n raaisel presies wat dit is nie, maar Greer probeer verder met my praat deur te fluister: “Ons wag vir Columbine.” Ek knik net. Dit bly moeilik om te verstaan presies hoe ek moet optree. Alet kyk na my, en toe na Greer. Elaine is besig om met twee groot werfhonde vriende te maak. Om ons troon die koppe en pieke die lug in. Binnekort gaan die son weg wees en dit sal seker koud word hier in die groenigheid. “Mense,” sê Harry Gunter. Dit klink asof hy gereeld toesprake maak. “Piet het julle om ’n rede hiernatoe gebring. Hy meen, hoewel ek van hom verskil, ek kan vir julle iets omtrent julle vak vertel.” Ons staan in ’n halfmaan en luister. “Ek is vandag ’n boer en gasheer, maar as jong man het ek my ook in narstreke verdiep. Ek het naamlik in die grootste sirkusse van die wêreld opgetree. Die karnaval is in my bloed. Nie net as nar nie, maar as sterkman en akrobaat het ek my merk gelaat. “Daar is nie veel wat ek julle kan vertel wat julle nie self kan uitvind of dalk reeds weet nie en ek voel my rol is bloot om te benadruk dat ’n mens iets moet vind om jou aan toe te wy.” Hy maak keel skoon en gaan verder: “Die lewe is kort. Dis miskien woorde wat vir julle laf klink. Maar dis die waarheid. Dus is daar dinge om in gedagte te hou, om julle doelgerig te hou. Dit wat jy najaag, moet natuurlik vir jou beloning bied, maar die proses moet ook jou ie wees.” Ons knik ewe sedig. Harry Gunter kyk om na die deur asof hy iets daar gehoor het.
“Nou ja, soos Piet was ek ’n formidabele sirkusman en soos Piet het ek ie geken. Nie net in my nering en vakgebied nie, maar ook in die liefde. Mense, ontmoet my vrou, Louise …” Greer fluister: “En sy verskyn aan ons soos ’n engel uit die hemel.” “’n Gevalle engel, as jy my vra,” fluister Alet wat voor ons staan en by die deur kan insien. ’n Oomblik later verskyn die vrou. Sy sit in ’n rolstoel wat sy met ’n hefboompie onder haar linkerhand beheer. Haar regterhand is kromgetrek in haar skoot wat met ’n kombersie toegemaak is. Haar gesig is vervalle en sy hou haar kop skuins. Dat sy eens op ’n tyd pragtig en ongelooflik was, ly egter geen twyfel nie. Dit sien ’n mens aan die hare en gesig wat mooier as Elaine s’n is, die vasberadenheid wat Alet in die skadu stel, die waardigheid wat Greer op ’n goeie dag skaam sal maak, en dan ’n soort mengsel van naïwiteit en ontnugtering waarmee ek identifiseer. “Louise was ’n nar en sweefstokarties. Ons was in Europa op die kruin van ons loopbane, maar ’n toertjie het skeefgeloop en ons het die sirkus verlaat.” Niemand reageer nie. Hoekom die ander niks sê nie, weet ek nie, maar vir my word die storie waaroor ek so baie gewonder het voor ons oë ingekleur: die vrou wat Klein-Piet verlaat vir Harry Gunter, hulle ambisie en drome, toe die ongeluk en die terugkom na die plek waar alles begin het. “Ek wil graag …” begin Klein-Piet praat, hy soek in sy rugsak en haal die rok en tamboeryn uit, “. . . dit vir jou teruggee.” Dis ’n baie ongemaklike oomblik. Die vrou gee die geskenk een kyk en dan verdonker haar gesig terwyl sy na Harry Gunter kyk, wat ’n gebaar maak asof hy wil sê hy kan niks aan die situasie doen nie. Die vrou lig haar linkerhand en ’n deel van haar gesig keep in soos sy ons met ’n glimlag groet. Toe bewerk sy die hefboompie en die stoel draai om en gaan weer by die voordeur in. Klein-Piet se gesig lyk geswel van ontsteltenis en verleentheid.
Ons sorg almal dat ons hom miskyk. “Wat ’n vertoning,” fluister Greer. “Piet, ek en jy het ons verskille in die lewe gehad …” En Harry Gunter trek los met ’n huldeblyk aan die kort man, wat nader staan en sy hand om die man se lyf sit, ’n glimlag op sy gesig wat nog steeds vir my ontsteld lyk. Klein-Piet sê iets oor ou vriende en nuwe probeerslae en bedank ons gasheer vir sy gasvryheid. Dan jaag hy ons aan: “Kom, kom! Dis ’n stywe ent terug en kyk hoe steek die wolke op. Laat ons loop!”
20
Die storm bars los voor ons terug is op die nek met die uitsig oor die sirkusskool, die plaas en die dorp. Dit het koud geword. Wind het opgesteek, so erg dat ek bang is dit waai ons by die steiltes af. Alet skel haarself omdat sy sandale aangetrek het. Ek trek my trui oor my kop en wens ek het nog een gehad. Reën begin in ons gesigte slaan. Gou stort dit neer. Dit voel of ek deurnat is. Van die meisies gaan sit in hopies in die paadjie en weier om verder te loop. KleinPiet raas en skree eers, maar kom dan tot bedaring en sê ons moet ’n rukkie wag. Ek sit by Greer, half onder ’n rots. Ons is heel agter. “Ek is jammer,” sê sy vir my in die mond van die storm. “Ekskuus?” “Ek is jammer! Dit was kinderagtig van my.” “Jy is gewoonlik so in beheer.” “Ek is. Van kleins af. Dis net … Ek dink selfs die Pous vererg hom soms vir iemand.” “En jy was vir my kwaad? Oor die ouens?” Greer kyk nie na my nie. Haar nat hare lê plat oor haar voorkop. Sy vee onder haar neus en snuif. “Ons gaan siek word hiervan,” sê sy. “Wat het jy teen ouens?” “Hulle is ander wesens as ons. Hulle dink nie soos ons nie. Hulle het ons soms
nodig, en dan baie nodig, maar dis nog steeds net soms. Dis baie beter om ’n vriendin te hê.” Nou kyk sy na my. En dis my beurt om volwasse en waardig te voel, want ek dink nog net Ronnie en miskien my pa toe ek klein en ’n nuwigheid was, het al so na my gekyk. Ná ’n ruk bedaar die reën en wind. Ons sit nog. Dis lekker hier. “Kyk die lig,” sê Greer en wys oor die nekkie na die vallei, waar die son vaalgeel in die weste begin ondergaan, onder die reënwolke deur wat nou begin ooptrek. Ver van ons af rus ’n gloed op die groen landskap. “Dis pragtig.” “Ons sal moet wikkel.” Die ander het lankal weer begin stap en trek al ver onder ons. Die eerste groepie ouens gaan reeds by die woudstrook in. “So jy wil weer my vriendin wees?” vra ek vir Greer. “Ja. Gee jy om?” “Nee, die ding is net, ek hou nogal soms van ouens.” “Hulle is onvoorspelbare en onbetroubare vente. En vroue is baie interessanter.” “Maar soms hou ’n mens van ’n onvoorspelbare en onbetroubare vent in jou lewe.” “Soos wie? Gerswin wat die perd se dood gekos het? Jou bewonderaar wat met sy motorfiets hier aankom?” “Haai, jy kan dit nie teen hom hou dat hy so ver gery het nie. Dan is sy bedoelings mos ernstig.” “Maar jou bedoelings is nie ernstig nie?” “Dit word dalk nog ernstig.”
Dit het donker begin word. Klein-Piet wag ons by die bome in en vra met ongeduld in sy stem: “Waar bly julle? Hoekom moet ek julle so oppas?” Hy het nie sy rugsak by hom nie. “Is daar fout?” vra Greer. “Het iets gebeur?” “Ek kort nog twee mense. Hulle is net weg.” “Weet jy wie dit is?” “Nee, ek het net getel, nie gekyk wie nie. Nou moet ek weer die dekselse paadjie uit.” “Dis goed vir die siel,” fluister Greer vir my en glimlag asof sy met my saamsweer teen Klein-Piet en mans in die algemeen. Maar ek wil nie weer so heeltemal in haar opgaan soos vroeër nie, daarom loop ek eerder tussen die bome in en af ondertoe, sonder om vir Greer te wag, sonder om terug te kyk, al hoor ek van tyd tot tyd hoe sy agter my gly of sukkel om by te bly. Een keer kan ek sweer sy praat met my, toe weer, maar ek kyk liewer nie om nie.
By die sirkusskool het baie van die mense gaan stort. Ek gaan hut toe om onder ’n kombers op my bed te lê en vir ’n oop stort te wag. Greer kom later in. Sy is al by haar kas doenig toe ek my oë oopmaak. Bêre sy iets? Kry seker droë klere. Ek kry te koud om om te gee, maar sien sy glimlag vir my. Ons is seker weer op goeie voet, maar nie soos vroeër nie. Dis beter so. Die hele situasie is te ingewikkeld om nou aan te dink. ’n Uur later het ek gestort en ons het lekker toebroodjies gekry vir aandete. Die twee vermistes kom by die sirkusskool aan, soos vee aangedryf deur Klein-Piet wie se bui nie juis beter is as toe die Louise-vrou hom nie bedank het vir die rok en tamboeryn nie. Dis Alet en ’n ou. Alet lyk soos ’n kat wat room gesteel het. Die ou lyk asof hy die een is wat besteel is.
21
Elaine is eerste op. Ek word wakker toe sy op die vloer begin trippel om op te warm. “Hoekom het niemand ons wakker gemaak nie?” vra sy toe ek my kop lig. Ek trek die punt van die duvet van my gesig af en snuif swaar. Ek is besig om verkoue te kry. Onder my hoor ek Greer steun en toe haar neus blaas. Alet lê ook nog, haar gesig weggesteek anderkant die kaste tussen die koppenente van ons beddens. Ek hoor ’n klikgeluid en verbeel my ek ruik iets brand, maar my neus is vanoggend taamlik toe. Binne oomblikke sê Greer: “Alet, moenie hier in die hut rook nie, ons klere gaan stink.” “Ons kan stem daaroor,” sê Alet. “Elaine?” Elaine onderbreek ’n strekoefening in die middel van die vloer om haar kop te skud. Dit kan enigiets beteken. “Mooi so, getroue vriend. Jakkals, wat sê jy? Jy’s mos net so ’n getroue vriend.” “Ek stem saam met Greer. Ek dink ook jy moet buite rook.” “Oe-oe! Is die twee lovebirds weer vreedsaam?” “Ons is nie mekaar se lovebirds nie,” sê ek vies. Greer sê niks. Dit maak my nóg vieser. Alet staan op en gaan met die sigaret tussen haar vingers by die deur uit. Ek hoor haar hard gaap en verwag vaagweg dat sy ’n wind gaan los. Na meer as ’n week ken ek haar al. Dit gebeur darem nie. “Hier gaan niks aan nie,” sê sy van iewers buite die deur. “Die ouens se hutte is bottoe. Daar is niemand by die kombuis nie. Waar is Klein-Piet dat hy nie na sy
bloedjies omsien nie? Ek weet, Klein-Piet insemineer ’n perdwyfie. Wat noem ’n mens ’n perdwyfie nou weer?” Sy hoes-hoes. Dis seker ook van gister se natreën, maar ek kry ’n prentjie in my kop wat Greer onverwags bevestig toe sy van haar bed af oorleun en langs my kop sê: “Dis hoe sy eendag gaan wees, in haar gown in die tuin aan die hoes van al die rook.” Ek skrik ’n bietjie, veral toe Elaine na ons kyk. Dit was nogal ’n goor ding om te sê, én te dink. Ons is albei skuldig. “Ek gaan stort,” sê ek vinnig. Dit hou net nie op nie, die manier waarop ’n mens se gevoelens teenoor ander verander. Ek het teen hierdie tyd al gedink Alet is irriterend, snaaks, dapper, maar ook simpatiek en ondersteunend. En nou staan sy buite en ek is so bang sy poep hard, dit voel of my tande jeuk. Is dit omdat ek vrek van naïwiteit? Is ek skynheilig? Die water is heerlik warm, maar ek mis ’n bad. Ek sou graag nou wou lê en warm word terwyl ek tee met kaneel daarin drink teen die verkoue. Alta kan dit vir my bring. Koert kan aan die deur klop en vra of sy dogter orraait is. En om die prentjie af te rond, kan ’n romantiese liedjie speel. Ek mis my radio en musiek. Die kamp raak nou lank. Soos die stort ook. Gewoonlik maak ek gou klaar. Iemand kom in. Dis Alet, ek sien haar fris figuur anderkant die glasdeur. “Jakkals, ek stort sommer saam met jou, dan spaar ons water. Wat sê jy?” In ’n oogwink is ek by die deur uit met die handdoek om my lyf gedraai. “Heng, maar jy’s vinnig,” sê Alet. Sy klink regtig verbaas. “Is dit net ons neusin-die-lug privaatskoolmaatjie wat saam met jou mag stort?” “Ek doen dit alleen, dankie!” Alet begin uittrek. Ek wil loop, maar sy praat weer. Buitendien het ek die
handdoek om my en ek kan nie so buitentoe gaan nie. Haastig begin ek aantrek, sommer onder die handdoek in. Ek kan nou nie genoeg privaatheid kry nie. “Jakkals, jy moet oppas vir neus-in-die-lug privaatskoolmaatjies. Hulle is nie jou mense nie en iemand wat nie jou mense is nie, sal met jou maak nes hulle wil.” Alet is kaal. Sy klim met ’n swaai van haar groot heupe oor die drumpel van die stort en staan dan onder die kraan, die glasdeur nog oop. Ek sukkel om my bra vas te maak, want ek verkyk my so half aan haar lyf. Toe ek opkyk, is dit vas in haar gesig. “Nou moet jy gaan sodat ek my boude kan was,” sê sy hard en draai haar rug op my. Die glasdeur staan nog oop sodat water tot amper by my spat.
22
Teen middagete is almal dood van die honger. Daar’s ’n vies gebrom en hoe langer Klein-Piet wegbly, hoe opstandiger raak die ouens. “Ek skrik nie vir ’n stoepskyter nie,” sê een. “Kom die uur, kom die revolusie,” sê Alet smalend. “Ons moet gaan hoor wat aangaan, of die kombuis se sleutel kry dat ons kan kos maak,” sê iemand later. “Gaan jy, Alet,” sê Greer. “Klein-Piet hou van jou.” “Hoekom gaan jy nie? Jy het ’n flair vir gatkruip en druk jouself met finesse uit.” Greer kyk na my en ek knik.
Op pad na die opstal vryf ons ’n paar perdeflanke deur die houtpaalheining en trek hande vol lang gras uit om die diere mee te voer. By die huis is dit stil. Ons klop en wag. Die groot voordeur is gesluit. “Sy bakkie staan hier, so hy moet hier wees,” sê Greer. Die voertuig is onder ’n boom by ’n skuur. Ons loop om die huis. Die hortjies is almal toe. Ek verkyk my aan hoe die gebou in pragtige patrone afskilfer en wys dit vir Greer. “Dis kalk,” sê sy. “Hierdie ou geboue word wit gekalk.” Die kombuisdeur staan halfoop. Ons klop daar en kyk na ’n stoof en yskas en wasbak terwyl ons wag.
“Dis snaaks dat die deur oop is,” sê ek. ’n Skielike knor verduidelik waarom. Ons hoor iets kraak en sien ’n ou hond sukkelend uit ’n rietmandjie klim om nader te kom. “Die hond het water en kos,” sê Greer en wys na die metaalbakke op die kombuisvloer. “Hier moet iemand wees.” “Hallo!” roep ons. “Wat is dit?” kom Klein-Piet se harde stem. Hy loop kaalvoet tot by ons, ongeskeer en rooi in die oë toe hy vir die daglig frons, want dis skemer in die huis. “Ons wonder wat van jou geword het. Die mense is honger en die kombuis is gesluit.” “Is dit al?” Ek en Greer kyk na mekaar en draai tegelyk om om te gaan. Klein-Piet sê: “Julle kan net sowel inkom. Julle is nou hier.” “Is alles reg?” vra Greer in die eetkamer waar ons by ’n groot tafel gaan sit. Teen die muur bo die kaggel is ’n skildery van ’n harlekyn wat voor aristokratiese mense optree. Daar staan twee leë wynbottels langs ’n glas wat omgeval op die tafel lê. “Raak net soms moeg,” sê Klein-Piet. “Ek sal nou kom oopsluit. Het gisteraand ’n bietjie gekuier.” Hy wys na die bottels. “Dis seker nie goed vir julle opvoeding om dit te sien nie.” “Dit was ’n lekker dag in die berg,” sê Greer versigtig. Ek kan sommer voel sy stuur op iets af en bewonder weer haar volwassenheid. “Die Gunters lyk na baie interessante mense.” Klein-Piet knip sy oë ’n paar maal. “Ja. Jy kan maar sê ek het ’n pad met hulle geloop.”
“So jy ken hulle al lank?” “Julle kon mos sien ek ken hulle al lank. Ek vat Louise se rok dan vir haar. En Harry omhels my as die langverlore idioot wat bedrieg is.” “Dis Columbine se rok.” “Ja.” Hy stoot sy handpalms oor die hout van die tafel. “Dis Columbine se rok. Columbine die nar voor die adel van Europa, Genevieve die sweefstokarties teen die nok van die hoë tent, Louise die owerspeler wydsbeen in ’n karavaan. En toe mevrou Gunter in ’n rolstoel. Glo julle mense se dade word gestraf? En dat die straf nie ophou nie? Dit word nie weer weggeneem nie? Daar is geen verligting nie? Glo julle dit?” Ek kyk grootoog na hom. “Dit moet ek seker nie vir julle vra nie. Julle neem nog aan iets moois gebeur met almal en dit gebeur gedurig. Wat weet julle van die liefde? My kop is seer. Wil julle iets hê om te drink? Maak maar self.” “Ons is reg,” sê Greer. “Sy wou nie die rok hê nie,” sê hy met ’n pleitklank in sy stem. “Sy was kwaad omdat ek dit vir haar wou gee.” “En toe gooi jy dit weg?” vra Greer. “Ja. Hoe weet jy dit?” “Dit was toe ons deur die woud afkom. Ons het mos agter geloop. Toe sien ek dit langs die paadjie lê. Ek het dit opgetel en hut toe geneem. Dis in my kas as jy dit wil hê.” Ek onthou Greer het met my gepraat, asof sy vir my iets wou wys of vertel, maar ek wou nie omkyk nie. En later in die hut het sy iets in haar kas gebêre. “Hou dit. Ek het genoeg van Columbine gehad. Van sirkusse ook. Ek dink dis die laaste kamp wat ek aanbied dié. Nou kan ’n ander organisasie kom oorneem en vandag se jeug van die verderf probeer red.”
“So ons moet maar huis toe gaan?” vra ek ’n bietjie ontevrede. Kein-Piet lag moeg. “Ja. Ek dink julle moet huis toe gaan. Ek gaan slaap. O, hier is die kombuis se sleutel. Daar is groente wat ek eergister gekoop het en in die yskas moet vier kilogram vleis wees. Kook, braai, wat ook al.”
23
Greer was weer in my kas. Ek kom dit agter toe ek begin oppak. Koert het laat weet hulle kan nie vroeg in Wellington wees nie, want hy moet mense sien oor oudhede wat hy wil koop. Een na die ander vertrek almal wat op die kursus was nadat hulle mekaar vrolik gegroet het. Ek hoor van tyd tot tyd motorenjins waar ek in die hut besig is en wanneer ek uitkyk, is die groepie elke keer kleiner en die bagasie minder. Alet en Elaine is vroeg weg. Hulle het saam met Alet se pa gery. Alet het my ’n drukkie gegee en gesê: “Vry daai outjie met die motorfiets witwarm. Dis die moeite werd.” Elaine het geknik en haar tas opgetel en geloop. Greer se gesin was nie hier nie. ’n Man met ’n pet op het haar kom haal in ’n groot, duur motor. Sy het verleë gelyk toe ons groet en hulle wegry. Wanneer sy in my kas was, weet ek nie mooi nie. Maar toe ek die tas met die narpak met ’n sug oopmaak, sien ek Columbine se rok en die tamboeryn daar lê, nie my eie rooi en geel pak nie. Daar is ’n nota by:
’n Columbine moet haar nie soos ’n man aantrek nie. In elk geval nie hierdie Columbine nie. Ek neem die hansworsklere saam met my en los jou hopelik met iets mooiers. Liefde, Greer. Die geld is om vir die klere te vergoed.
Die hand vol note doen meer as om vir my skade te vergoed. Dalk moet ek dit teruggee, dink ek skuldig, maar ek weet ook ek voel te gou skuldig en verplig om iets te doen. Vir wat nie net die oomblik geniet nie? Ek sit in die hut met Columbine se rok op my skoot. Ek voel aan die materiaal en die lintjies en vou die rok dubbel. Dan maak ek die deur toe en trek die rok oor my klere aan. Die tamboeryn lyk aanloklik en ek begin daarmee speel en musiek maak. Dis nie lank nie of ek het my roetine aangepas. Dis lekker om ’n man na te aap in die rooi en geel pak, maar nou doen ek iets nuuts in Columbine se rok. Ek dans en pronk, en trippel en raas met die tamboeryn, en ek struikel en gaan sit en spring op en strompel rond, dans en pronk en trippel dan weer. Iemand klop aan die hut se deur. Ek maak oop sonder om daaraan te dink om die rok uit te trek. Dis Klein-Piet, sien ek en skrik, maar hy kyk na die rok wat ek aanhet en sê: “Dis goed jy het dit gekry. Onthou net, as jy die dag begin harte breek, probeer ’n hart net een keer breek. Die lewe is te kort om aanmekaar te ly.” “Jy het darem jou perde.” “Hulle wil die perde wegvat. Oor die rodeo wat ek hier gehou het. Seker ook reg so. Ek weet nie wat my besiel het nie.” “Almal op die kursus het gesê jy is ’n regte showman.” “Dis seker wat ek is. Ek het gedink ek moet my memoirs skryf. Daar is twee vroue op die dorp wat saambly en saam skryf. Miskien kan hulle my help.” “Ek sal die boek koop.” “Jou pa-hulle is hier.” Ek pak die rok weg en gaan met my bagasie uit. Koert en Alta staan by die motor voor die saal. My pa kom nader, neem my bagasie by my en sit dit in die kattebak.
Alta soen my. “En toe?” vra sy. Dis ’n vae vraag, maar ek verstaan wat sy bedoel. “Ja, wat,” sê ek. Dis net so vaag, maar ek weet aan die manier waarop sy my omhels dat sy ook verstaan wat ek bedoel.
24
Eers is dit vreemd om terug te wees. Ek bedoel, ek probeer my gewone dinge doen soos om dorp toe te stap en radio te luister en Alta met die blomme te help, maar dis al asof die plek te klein geword het. Vir ’n ruk pla dit my, want ek kan nie aan die dorp dink sonder om te dink aan wat buite die dorp lê nie: die distrik, die provinsie, die land. Daar is soveel moontlikhede in die lewe. Die laaste week van die vakansie help ek Koert in die oudhedewinkel. Die beeld wat hy gekoop en skoongemaak het, pryk op die sypaadjie. Iemand het vir die beeld ’n onderbroek aangeverf en ’n stukkie kurk aan die punt van sy penis vasgeplak. Koert is nie lus om dit af te haal nie, want hy is seker mense gaan dit net weer doen. Ons doen redelik besigheid, want dis toeristeseisoen. Ek help vroue tweedehandse meubels kies, wys mans waar is die ou vuurwapens en militêre goed, verkoop blikspeelgoed aan versamelaars, maak spookasem vir kinders. Wanneer dit stil is, sorteer ek items in bokse en kiste. Party daarvan is baie oud en ’n mens kom gedurig op iets interessants af. Ronnie stap eendag daar in. Ek is besig om hekelwerk uit ’n kartonboks te haal. Daar is dekens, tafeldoeke, doilies en lappies vir sitkamermeubels. “Hallo, Siobhán,” sê hy en sit sy motorfietshelm op die toonbank neer. “Jou ma sê jy is hier.” “Hallo, Ronnie,” sê ek vir hom. “Wat maak jy alles?” “Ek het weer begin oefen.” “Wat?” “Rugby.”
“O, ek dag dit was net ’n fase.” Agter hom sien ek sy rugkant in ’n ou spieël weerkaats. Die spieël se blink is al taamlik af en die beeld daarin lyk stowwerig. “Party fases ontgroei mens mos nie.” “Seker nie.” “Hoe was die kamp toe?” vra hy. “Bietjie van ’n ramp. Die man wat dit aanbied, wou later nie meer met ons werk nie. Maar dis oukei, ek weet hoekom hy nie wou nie.” “Klink erg.” “Nee, dit was glad nie. Ons is op goeie voet met hom daar weg. Dit was eintlik ’n lekker kamp.” “Ek onthou ’n rugbykamp waar ons partykeer in die nag oefeninge gedoen het.” “A.” “Ek het gedink …” “Wat?” “Dat jy iemand daar sou ontmoet.” “Ek het ’n paar mense ontmoet,” sê ek terwyl ek ’n doilie aan een van sy skulpies om my hand swaai. “Ek bedoel iemand spesiaal.” “Miskien het ek.” “’n Ou?” “Nee.” “O, dis orraait,” sê hy verlig. “Wat bedoel jy?”
“’n Mens moet vriendinne ook hê.” Ek tel van die hekelwerk op. “Ek moet hierdie goed gou uitsit en prys.” “Ek wil eintlik weet of ek weer by jou kan begin kuier?” “Jy het nog nooit voorheen gevra nie.” “Miskien moes ek nie net so daar aangekom het nie, en nie so baie nie. Miskien kan dit nogal irriterend wees.” “Kom Saterdagmiddag. Dan kyk my pa soos gewoonlik rugby.” “Ja, dis ’n goeie idee. Ek en jou pa kan gesels.” “Hmm.” “Enne, o ja, is jy toe ’n nar? Met ’n neus en groot skoene en als?” “Ek is meer as ’n nar. Ek is Columbine.” “Columbine? Wie’s dit?” Hy klink vir die eerste keer ongeduldig. Die waarheid omtrent my en Ronnie slaan my hard. Wat ek ook al vorentoe in my lewe doen, ek kan nie oor Ronnie opgewonde raak nie. Ek kan nie, ek kan nie. “’n Vrou wat liefhet. Sy het meer lief as die mense en die goed wat sy klaar het. Sy wil meer hê en daarom moet sy almal en alles wat sy het soms los en weggaan.” “Dit klink na verneuk.” “Ja, dit is ongelukkig wat dit is, dink ek.” “Ronnie, hoe gaan dit met jou?” vra Koert wat uit ’n ander vertrek ingekom het. “Man, jy moet hierdie ou rugbytruie sien wat ek gekoop het. Ek koop mos ’n ding eintlik vir myself. Mense moet partykeer my arm draai voor ek weer daarvan ontslae raak.” “Ek sal kyk,” sê Ronnie en knik vir my. Hy en my pa stap binnetoe. Ek bly doenig met die hekelwerk, skud ’n groot tafeldoek uit, swaai dit oor my
skouers, kyk na myself in die stowwerige spieël, trek gesigte, hou my skaam, uitdagend, ingedagte, wulps. Vry.
25
Saterdagoggende is die oop stukkie veld langs die AGS-kerk bedrywig. Daar is seker dertig stalletjies. ’n Mens ruik die speserywors en die pasteie en die gebak, en wanneer jy naby genoeg is, die groente. Die droë fynbos ruik ook, maar ’n mens moet baie naby wees. Ek verkoop bossies oor die houtblad voor my. “Siobhán!” sê ’n gesofistikeerde vrouestem. Wel, ek moet sê, enige stem wat my naam reg uitspreek, klink vir my gesofistikeerd, maar hierdie een is spesiaal … en bekend. Ek kom orent. Ek was besig om die orige bossies losser te rangskik sodat die kis voller lyk. Kleinhandel leer ’n mens slinks dink. Dis Greer wat voor my staan in ’n blou langbroek, wit hemp en ’n donkerblou onderbaadjie. Haar hare is langer en sy lyk vir my ouer. “Wat doen jy hier?” vra sy. “Ek verkoop my ma se blomme. Jy?” “Ons is hier vir die naweek.” Sy kyk terug, maar ek sien nie na wie nie. “Ek het vergeet jy bly hier. So jy is nou in matriek?” vra sy vir my. “Is mos?” “Ja. Leer elke dag my stukkie en wag vir die belangrikste eksamen van my lewe. Wat doen jy deesdae?” “Ek studeer Romaanse letterkunde. My hart is in Europa en ek hoop om eendag daar te kan woon.” “O ja.” “Waar Columbine en Pierrot vandaan kom.” “En die harlekyn.”
Sy lag laag en versigtig. Dis nie die eerste keer dat ek wonder wat sy alles op privaatskool geleer het nie. “Dis goed om jou te sien,” sê sy. Ek glimlag en weet nie wat om te antwoord nie. Dis nou stil by die tafel, maar iemand sal seker enige oomblik die blomme opmerk en naderkom. “Voel jy daardie kamp het jou iets geleer?” vra Greer. “Ek dink so.” “En wil jy nog in ’n sirkus gaan werk?” “Ja.” “As ’n nar? Of as Columbine?” Ek weet nie wat om te sê nie. Die vraag irriteer my. Wat het dit in elk geval met haar te doen wat van my word? “Ek het soveel van my entoesiasme verloor,” sê Greer. “Of dalk moet ek sê my prioriteite het baie verander. Daar tree glo ’n internasionale sirkus in die Kaap op.” “Ek weet, ek het gehoor daarvan.” “Jy is beslis nie minder entoesiasties nie. Dis goed om te sien.” “Aag …” Ek voel weer selfbewus en draai na die blomme in die kis agter my, sommer net om iets anders as Greer se gesig te sien. Ek het eintlik gedink ek het dit al begin afleer, ek bedoel dat ’n mens gedurig voel jy maak dalk ’n gek van jouself sonder dat jy mooi weet wat jy verkeerd doen. Greer kyk weer rond. “O, daar’s hy. Ek het my vriend vir ’n oomblik verloor. Haai, hoei!” roep sy in die rigting van ’n man wat net so gesofistikeerd soos sy lyk. Maar sy roep so versigtig dat g’n mens behalwe ek haar kan hoor nie. En dis toe dat ek na sy kant toe waai en skree: “Hei!” Dit lyk of Greer koes. “Ek wonder hoe gaan dit met Alet,” sê sy. Dalk is sy
sarkasties, so op haar manier. Die man wat naderkom se trui is stylvol om sy skouers gedrapeer. Sy klere lyk nuut en hy is glad geskeer en sy breë skouers laat hom baie manlik en aantreklik lyk. “Ernst, dis Siobhán. Ek het jou vir ’n oomblik tussen al die mense verloor, Liefling.” “Hallo, Siobhán.” “Hallo.” Ek bekyk die man. “Is jy ook ’n student?” Greer glimlag. “Ernst is ’n dosent. Mediastudies. En hy het ’n belangstelling in …” “Romaanse letterkunde?” “Ja.” “Dis mooi blomme wat jy het, Siobhán,” sê die man. “Laat ek dadelik ’n bossie koop.” Ek soek ’n mooi bossie uit en hy gee dit vir Greer, wat versigtig lag, maar bly lyk. “Hy bederf my tot in die afgrond,” sê sy. “’n Vrou moet ’n man in haar lewe hê. Dis belangrik vir balans.” “Sal ons gaan?” vra Ernst. Hy vat met sy hand agter Greer se skouer en sy kyk na hom. Hulle deel ’n oomblik wat ek weet ek sal onthou. “Ja, kom, Liefling. Ons het die wonderlikste kelder ontdek. Ernst wil gaan wyn koop.” Ek knik. “Jy moet jouself mooi oppas,” sê Greer. Sy dink dalk sy is nog steeds die raadgewer en ouer vriendin wat sy vir ’n groot deel van die kamp was. Maar dis nie meer die geval nie. Ek is onder haar invloed uit en het ouer geword en kan
vir myself dink. Die twee verliefdes groet en beweeg weg, my bossie blomme in Greer se hand. Hulle is mooi mense soos hulle daar stap, regtig mooi. Teen middagete is daar nog twee bossies blomme in my kis oor. Die meeste mense is nou weg en die oorblywendes ruim hulle stalletjies op. Ek kyk rond tot ek iemand sien wat alleen lyk. Dis ’n bejaarde vrou wat op ’n stoel langs ’n stalletjie sit waar ’n man salami’s en worse verkoop het. Ek stap met die blomme na haar toe. “Middag, Tannie. Wil Tannie nie blomme hê nie?” Die man van die worse kyk in my rigting, gaan dan aan om sy ware weg te pak. Dit moet sy ma wees met wie ek praat. “Kind, dit is darem gaaf van jou. Wat skuld ons jou? Evert, kan jy die meisie betaal?” “Julle skuld my niks. Dis sommer net blomme wat ek weggee. Geniet die dag.” Ek staan nog ’n rukkie by my stalletjie. Ek wag tot die man van die worse en die tannie loop. Ek kyk hulle agterna, die groot man en die tingerige vrou met die twee bossies blomme wat te groot vir haar lyf lyk. Die markie het stil geword. Ek is die laaste een wat oorbly tussen die kaal stellasies en houtblaaie. Om die perseel staan die kerk, ’n Montessori-skool en ’n krieketveld se geboue. Verderaan is veld. Ook ’n kampie met ’n perd. Ek kyk vir ’n rukkie na die dier en geniet die manier waarop sy spiere onder sy blink bruin vel speel. Ek moet ’n ruk wag voor ’n motor in die parkeerarea stilhou. Sam kom haastig nader gedraf, hare deurmekaar, maar met ’n glimlag. “Jammer ek is laat. Ek het iemand raakgeloop wat ek ken. Dis altyd so ’n ligte skok om iemand uit jou verlede weer te sien. Ek wonder altyd: Is ek nog die persoon wat ek was? Is ek getrou aan wie ek wou wees? Jy weet nou seker glad nie waarvan ek praat nie.”
Ek sê: “Ek het so ’n idee. Kom.” “Wat is jy so haastig?” “Ons moet ry.” “Ons gaan mos.” “Dis ver Kaap toe.” “Ek weet, ek weet.” “En die sirkus wag vir niemand nie.”
En ek is die een met die naam wat al hoe meer mense deesdae reg uitspreek, al vrees ek die skade is reeds gedoen deur die miljoene kere wat ek “Sioebên” genoem is. Dis “Shiwon”, my magtig, dis hoe ’n mens dit sê, met ’n w soos in witwarm-klap-as-jy-weer-my-naam-verkeerd-kry.
Dis ’n coming of age-storie met Siobhán, ’n effens opstandige tiener in graad 11 as hoofkarakter. Sy verras (en skok) haar ouers toe sy besluit om die skoolvakansie by ’n sirkusskool aan te sluit “om net ’n slag iets anders in haar lewe te doen en te ervaar – en dalk help dit vir die dramaklasse wat sy ná matriek wil neem”. By die sirkusskool ontmoet sy ’n uiteenlopende klomp karakters (elk wat sy eie spreekwoordelike masker dra) wat almal uiteindelik ’n invloed op haar sal hê in haar soeke na haarself – soos Klein-Piet, die sirkusinstrukteur en sy geheimsinnige Columbine, en die ernstige, volwasse Greer wat glad nie inpas by ’n sirkusskool nie, maar wat deurentyd ’n sterk invloed op Siobhán het.
Jaco Fouché se debuutroman, Die ryk van die rawe (1996), is in 1997 met die Eugène Marais-prys bekroon sowel as vir die M-Net-prys benoem. Ander werke sluit in: Paartie by Jake’s (1997), Die avonture van Pieter Francken (2005), Twee dae in Mei (2007), Ed van Inligtingstelsels (2009) en Die grysland-verblyf (2010). Van Jaco se kortverhale word in Sarie gepubliseer en hy doen ook vertalings na Engels, o.m. Kleinboer se veelbesproke roman Kontrei, onder die titel Midnight missionary (Zebra Press, 2007). Sy roman, Verstevlei, het die derde prys verower in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd, 2012. Siobhán van die sirkus is Jaco se eerste jeugroman.
Eerste Afrikaanse uitgawe in 2014 deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms) Bpk, Heerengracht 40, Kaapstad 8001 Posbus 6525, Roggebaai 8001 Suid-Afrika www.humanrousseau.com
Kopiereg © 2014 in teks deur Jaco Fouché
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skryf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting.
Fotografie: Anika Molnar Model: Meganne Young Grimering: Jacqueline Viljoen Stilis: Brittany Donovan Omslagontwerp: Clive Myburgh en Teresa Williams
E-boekontwerp: Trace Digital Services
Ook beskikbaar in druk: Eerste uitgawe, eerste druk in 2014 ISBN: 978-0-7981-6754-3
Epub-uitgawe: Eerste uitgawe in 2014 ISBN: 978-0-7981-6755-0 (epub)
Mobi-uitgawe: Eerste uitgawe in 2014 ISBN: 978-0-7981-6756-7 (mobi)